Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all 321 articles
Browse latest View live

Lerina Erasmus (1946–2018)

$
0
0

Foto van Lerina Erasmus: Robert Hamblin

Gebore en getoë 

Lerina Erasmus is op 20 Augustus 1946 in Namibië, destyds Suidwes-Afrika, gebore. As ’n rooikopdogtertjie het sy saam met haar Ovambo-maatjies langs die Kunenerivier in die noorde van Namibië gespeel. “Ek het Ovambo gepraat. Nou ken ek dit nie meer nie,” vertel sy aan Elise-Marie Tancred (Rooi Rose, 26 November 1997).

Haar pa was ’n ouditeur en boekhouer van beroep en dit het gemaak dat hulle soos “sigeuners” van die een plek na die ander moes trek en sy het grootgeword van Namibië tot in Pretoria.

“Vir ’n klein dogtertjie was dit ’n vreemde wêreld van die een hotel na die ander met te min tyd om blywende vriendskappe met ander kinders te sluit,” deel sy Lochner de Kock mee (Rapport-Tydskrif, 21 November 1999). “My ma, ’n buitengewoon warm mens, het dit op haar geneem om my te vermaak. Van haar lippe kon ek die eerste keer die broers Grimm se verhale hoor, asook die romantiese eskapades van ridders, maagde en drake deur ’n meneer Spencer. En dan later ook die Griekse mitologie.”

Sy vertel ook aan De Kock dat daardie hotelkamers waar hulle so baie van hulle tyd alleen deurgebring het, was haar eerste verhoog. “Want ek en my ma het al daardie avonture en sagas uitgeleef. Die aktrise is gebore tydens eindelose reise van Klerksdorp tot Koekenaap, Gatsrand en Putsonderwater!”

Verder studie en werk

Ná skool is Lerina na die Universiteit van Pretoria waar sy drama gaan studeer het onder leiding van Anna Neethling-Pohl. Sy is aangewys as beste student en het saam met die streekrade se drama-geselskappe rondgereis. Só het sy waardevolle ondervinding opgedoen, maar het dit nie as jong aktrise so ervaar nie: “Destyds was ek baie vies. Ek wou in die teater speel, nie in skoolsale nie!” vertel sy aan Tancred.

In 1970 is sy en Gunther Schmikal, ’n Oostenryker, getroud en hulle het een seun, Stefan-Pieter. Die ontmoeting was iets wat amper in ’n storieboek kon gebeur het.

Sy is na ’n kostuumbal genooi. Die plekkie waar dit gehou is, was baie klein en die gasvrou het ongeveer 200 mense genooi. “Maar ek onthou dit was gelukkige dae waarin ’n mens met moord kon wegkom, solank dit liefdevol gepleeg is!” vertel sy aan De Kock. “Ek trek toe soos ’n sigeunerin aan, ’n soort Carmencita Erasmus met kamelias in my lang rooi hare. Toe ek instap, steek ek handeviervoet was – reg voor ’n sigeuner ... ’n lieflike manlike een – en die Groot Ontploffing gebeur! Soos julle kan raai, het ek die man in my lewe ontmoet. ’n Man genaamd Gunther Alfred Schmikal.”

Hulle het daarna saam as hippies met blomme in hul tone en hare deur Europa duimgegooi en oral waar hulle gekom het, vrede verkondig. Dit was ’n wonderlike vrye tyd.

Sy is ook gedurende daardie tyd gekies om as een van 10 buitelandse studente aan die gesogte Max Reinhardt Instituut in Wene te gaan studeer. “Ek het ongelooflik baie geleer,” sê sy aan Tancred (Rooi Rose, 26 November 1997), “maar net toe ek begin om ’n deurbraak te maak in die Oostenrykse teaterwêreld, het ons geld opgeraak. My enigste roem dáár was dat ek as ’n vreeslike mollige Felix die Kat op die verhoog verskyn het.

“Dit was wel ’n uiters stimulerende tyd in my lewe. Ek het groot name sien optree. Ek het gesien hoe hulle ’n gehoor bekoor en hoe ’n gehoor waansinnig raak oor teater. Teater daar is soos rugby in Suid-Afrika. Hulle slaan vuis oor watter aktrise die beste is.”

Lerina het haar daarna wel deeglik op die verhoog laat geld. Sy het klassieke rolle gespeel in die Griekse dramas, Elektra, Antigone en Medea en dit het haar laat voel dat sy lééf. En dit was nadat sy Medea gespeel het in die laat 1970’s dat sy afskeid van die teater geneem het. “Dit was die laaste optrede en ek het ’n vertolking gegee wat ek geweet het ek nooit sou kon herhaal nie,” verduidelik sy haar besluit aan Mariette Snyman (Rooi Rose, Oktober 2006). “Daardie aand het ek van die verhoog afskeid geneem. Ek het al my foto’s weggegooi – dit was soos ’n amputasie. Maar dit was ook tydig; ’n ruk later is my en Gunther se seun, Stefan-Pieter, gebore. Verhoogwerk neem jou dikwels ver weg van die huis. Jy kan radio- en TV-werk makliker met ’n gesin versoen.”

Lerina het in 1992 na die verhoog teruggekeer om die rol van Anna in Reza de Wet se Mirakel te vertolk. Sy het aan Martjie Roos (Beeld, 29 Junie 1992) vertel toe Stephan Bouwer haar gebel het om haar die rol aan te bied, sy dit eers nie wou aanvaar het nie. “As dit die derde blompot van links op die verhoog is, onder die voetligte, ja ...'' het sy skertsend geantwoord. Maar nadat sy die teks gelees het, het sy gou van wysie verander.

Daarna het sy haar toneelwerk voortgesit deur in televisiereekse soos Dokter, dokter en Drama, drama te speel, maar het haar meestal toegespits op die skryf van radioverhale. En dit het alles begin toe sy vir Stefan verwag het. “Ons het ’n nuwe Afrikaanse radiostorie deur Elmar Steyn opgeneem. Hy het skaars drie episodes geskryf toe hy ’n hartaanval kry. Ek en van die ander spelers moes noodgedwonge inspring om die storie verder aanmekaar te flans. Ek het dit nogal geniet, en daar was nie tyd om my te bekommer dat ek dit dalk nie sou regkry nie,” vertel sy aan Snyman.

In die skryf van die radioverhale kon sy staat maak op haar verhoogopleiding en -ondervinding, veral as sy visueel moes dink. “Met radio skep jy teater van die brein. Die luisteraars moet kan ‘sien’ hoe elke karakter lyk. Maak nie saak of ek vir ’n boek, die radio, TV of groot skerm skryf nie, ek dink in prentjies. Ek moet presies weet hoe ’n karakter lyk – tot haar tone – en hoe sy loop. Ek moet elke vertrek in die fynste besonderhede kan sien.”

Heelwat radioreekse het uit Lerina se pen gevloei – Hartjie my liefie, Noodlotskoppelmaai, Vriendinne – en sy het gesorg vir baie eerstes in die radiobedryf. So was Hartjie my liefie die eerste radioreeks waar daar in diepte gekyk is na die gay leefstyl in Suid-Afrika, asook na die modebedryf. Noodskoppelmaai was die eerste reeks wat uitsluitlik vir bruin akteurs geskryf is en Vriendinne het gehandel oor Afrikaanse vroue en hulle diepste begeertes.

Sy het ook die televisiereeks Moordspeletjies geskryf wat in 1988 uitgesaai is met Wilna Snyman in die rol van Caro, ’n moordverhaalskrywer. Lerina was ook verantwoordelik vir die hoofstorielyne van Die Glaskasteel, ook ’n televisiereeks, asook vir Dot & Kie.

Maar dit is vir die reeks, Die Mannheim-sage, wat Lerina groot bekendheid as skrywer verwerf het. In 1983 en 1984 is dit oor die radio uitgesaai. Dit het 1 500 episodes gehad en handel oor die ontstaansjare van Johannesburg en die stad se inwoners. Akteurs soos Tess van Staden en Leon van Nierop het die hoofrolle op radio vertolk en Lerina vertel aan Erla-Mari Diedericks (Die moderne vrou, 31 Oktober 1997) dat hulle die verhaal help skryf het “omdat hulle dikwels die karakters gevat en daarmee weggehardloop het”.

Die karakters in Die Mannheim-sage het later deel van die volk geword. Só het luisteraars die land oor getreur toe die een karakter, Ma-Fytjie, gesterf het. “Die aktrise wat die rol van Ma-Fytjie vertolk het, Annie Basson, het een dag in ’n kafee in gestap, maar niemand wou haar help nie,” vertel Lerina aan Diedericks. “Hulle was te hard besig om te huil omdat Ma-Fytjie dood was. Toe sy vir hulle vertel dat sý Ma-Fytjie se rol gespeel het, wou hulle haar glad nie glo nie. Hulle wou haar net uit die kafee uit hê, want hoe durf sy vir hulle sê dat sy hier in lewende lywe staan. Ma-Fytjie was dan dood!”

Lerina het Ma-Fytjie gegrond op ’n karakter uit haar kinderdae, Ma Martiena. Sy kon glad nie lees nie, maar wou altyd opsluit Lerina se skoolrapporte lees en nadat sy dit “gelees” het, vir Lerina gevra: “Was jy goed of stout?” Ma Martiena het Lerina se kinderdae regeer en was baie streng, maar ook wys, het Lerina aan Showmax vertel. "My man het haar toestemming gevra om met my te trou, maar sy het geweier, want hy is ’n wilde man van oorsee wat eienaardige kos geëet het."

Die radioreeks was só gewild dat die SAUK haar gevra het om ’n televisiereeks van 15 episodes te verfilm as deel van die SAUK se bydrae tot die Johannesburgse eeufees van 1986. In die televisiereeks het Hans Strydom die rol van Kit Malloy vertolk en Sandra Prinsloo die rol van Deborah.

Lerina kon egter nooit dink dat Die Mannheim-sage ’n derde lewe sou hê nie. In die vroeë 1990’s toe Perskor Lerina versoek het om ’n historiese roman te skryf, het sy die stof van die radio- en televisiereeks afgeskud en dit verwerk tot ’n roman. Haar ma het destyds die televisie- en radiomanuskripte gebêre, want sy het altyd geglo dat Lerina nog eendag ’n roman daaroor sou skryf. Maar met haar ma se dood het Lerina alles weggegooi. Sy moes toe van voor af begin, maar gelukkig “het die karakters helderder as ooit tevore teruggespring,” sê Lerina aan Diedericks. “Nou kan ek hul storie vertel soos dit moet wees, want ek was voorheen  beperk deur sensuur- en apartheidswette. Kyk, as dit kom by iets soos die liefde, moet jy ’n ding stel soos dit is. Ja, daar is liefdestonele, maar dit was moeilik om te skryf. ’n Ou tannie van 80 jaar wat getroud is met ’n omie van 94 jaar, het een keer vir my gesê: ‘Mens, wat práát julle so baie oor dié ding? Dis mos net tjoef-tjaf dan’s alles verby!’

“Die geheim is daarom om die leser mee te voer voordat jy by die ‘tjoef-tjaf’ uitkom.”

Die sukses van Die Mannheim-sage is gegrond daarop dat dit ’n historiese agtergrond het wat mans én vroue interesseer.  Dus moes Lerina weer van vooraf haar navorsing goed doen, maar, soos sy dit self stel, is sy ’n “closet-navorser”.

Die Mannheim-sage is in drie dele uitgegee waarvan die eerste twee, Die fortuinsoekers en Die goudkewers, onderskeidelik in 1997 en 1998 deur Perskor uitgegee is. Die derde deel, Die goudbaronne, is in 2006 deur Lerina self uitgegee, terwyl die eerste twee in 2007 deur Leguan Trading heruitgegee is.

Ná die publikasie van Die fortuinsoekers het Lerina aan Hilda Grobler (Vrydag, 21 November 1997) gesê: “Dit is wonderlik om die klein olifantjie in my hand te hou. Toe ek vir die radio en die TV geskryf het, was dit asof ek van sneeu beelde gemaak het!”
Oor haar navorsing vertel sy aan Grobler: “Ek skryf oor mense soos Cecil John Rhodes, Barney Barnato en Paul Kruger. Ek maak mense van hulle, maar bly so na aan hul karakters as wat ek kan. Dis net dat geskiedkundige figure so afstandelik is as ’n mens geskiedenis doen, want hulle is almal enorme ou manne wat daar ver en vreemd is. Begin jy navorsing doen, besef jy dat Paul Kruger byvoorbeeld baie goed kon spoeg!”

Oor haar werkswyse verduidelik Lerina aan Hilda Grobler (Vrydag, 21 November 1997): “Ek werk volgens ’n streng patroon. Eers kom die idee, dan die navorsing. Daarna volg die raamwerk. Dit moet ’n stewige raamwerk wees sodat ek kan draaie gooi en takke daaruit kan groei. As dit nie stewig is nie, loop ’n mens die gevaar dat dit sal inbuig, sal inval soos ’n hol matras. Dan kom die sub-raamwerke waarin die karakters en die gebeure verder ontwikkel.

“Dis wanneer jy die storie moet laat loop. Dinge wat jy glad nie voorsien het nie, gebeur. Dis wonderlik! Toe ek die radiodrama geskryf het, het ek reeds geweet presies wie elke karakter is en hoe hy lyk, maar ek het met wonderlike akteurs gewerk wat die karakters nog vollediger gemaak het. In die roman groei hulle verder.

Oor haar karakters en die ontwikkeling van die karakters sê sy aan Grobler: “As dit ’n nuwe storie is, kry ek die storie geskryf en dan begin ek die karakters uitrafel. ’n Mens moet alles van hulle af weet. Jy moet selfs weet hoe gereeld borsel ’n karakter sy tande. Jy moet hom begin ruik.

“Daarom het ek, waar moontlik, in die geskiedkundige verloop van die trilogie met werklike karakters gewerk. Binne die raamwerk het ek my fiktiewe karakters geplaas. Die Mannheims is fiktief – al dink mense hulle is nie! As jy ’n stad soos Johannesburg met sy geskiedenis vat en bekende karakters daarin plaas, sit jy nog steeds met ’n stad wat jy moet bevolk. Jy het karakters nodig en jy máák hulle.”

Die eerste boek, Die fortuinsoekers, beeld die beginjare van Johannesburg uit, toe die goudrif ontdek is en fortuinsoekers die plek binnegeval het om hul fortuin te ontdek. En dit is waar die heldin, Deborah, haar opwagting maak. Omdat haar stiefpa hulle plaas verloor het, is sy genoodsaak om bier af te lewer. Kit Malloy, ’n wilde Ier, gewese beroepsoldaat en wapensmokkelaar, voorspel moeilikheid as so ’n mooi jong vrou saans moet werk. Die ander been van die liefdesdriehoek is Karl Mannheim, erfgenaam van die mynbaas Kurt Mannheim. Karl is kunssinnig en wispelturig en is vriende met Barney Barnato, maar hy en sy vader kom nie goed oor die weg nie.

André Blom skryf in Insig van Mei 1998 dat die dade van die karakters goed ineengeskakel word met die geskiedkundige gebeure. Hy is ook sterk onder die indruk van die navorsing wat sy oor die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek moes gedoen het. Fiktiewe persone word goed verweef met die werklike historiese figure soos Paul Kruger, Rhodes, Barnato, Von Brandis en Cockney Liz deur gemaklike dialoog en beelding.

“Die verteltrant is direk en gemaklik en laat die sosiale lewe van die pionierstyd saam met die spannende persoonlike intriges ontvou. Die taalversorging is oor die algemeen goed, net jammer dat daar enkele drukfoute ingesluip het ... Maar dis mindere besware vir só ’n omvangryke boek (883 bladsye) en doen nie afbreuk aan die lekker loop van die spannende gebeure nie,” aldus Blom.

Goudkewers, die tweede boek van die trilogie, hervat Deborah se storie na die onstuimige jare van die Jameson-inval en die Anglo-Boereoorlog.

Die televisiereeks beeld die eerste twee boeke van Die Mannheim-sage uit.

Die derde boek, Goudbaronne, wat amper 10 jaar na die eerste twee verskyn het, speel gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog af. Kit Malloy is nou ’n alleenloper en het die wêreld deurreis, en is nog altyd lief vir Deborah. Hy is terug in Johannesburg en weer raak sy lewe ineengestrengel met dié van Deborah en haar seun, Kurt Mannheim. Deborah is nou ’n verbitterde vrou, maar ook ’n geharde besigheidsvrou wat nie ongedeerd uit die Anglo-Boereoorlog gekom het nie.

Dan ontmoet Victoria Malloy en Kurt Mannheim. Die jarelange onmin tussen die families traak hulle nie en hulle raak betrokke bymekaar. Danél Blaauw (Die Volksblad, 18 Augustus 2006) beskryf Goudbaronne as ’n baie lekker leesboek wat die leser vasgenael sal hou.

In Beeld van 23 Augustus 2006 beskryf Helene de Kock vir Lerina Erasmus as “’n gebore storieverteller. Sy weet goed hoe om driftig emosie by haar lesers (en kykers) te wek – ’n ononderhandelbare vereiste vir ’n goeie storie.”

Vir De Kock het Lerina Erasmus ’n “filmiese skryfstyl” en die “karakterisering is uitstekend”. “Die leser raak betrokke by die twee pare se liefdesintriges te midde van die onstuimige tyd waarin dit uitgebeeld word. Soms, net soms, wil mens Deborah skud dat haar tande klap want hoe kán een mens so aanhoudend moedswillig wees? Tog, die buitengewone aantrekkingskrag tussen Kit en Deborah boei mens dermate dat jy kwalik die boek kan neersit. Ook die ruimte in die boek word besonder goed uitgebeeld. Ou Johannesburg kry lewe en ook Parys (Frankryk) word goed uitgebeeld. Selfs madame Coco Chanel het ’n rol! Alhoewel enige skrywer maar moet lig loop vir beskrywing versus beelding, pak Erasmus beskrywings ligvoets en lekker aan. Dus lees mens graag en geniet die boek enduit.”

Al fout wat De Kock met Goudbaronne kan vind, is dat die boek self uitgegee is en daar gevolglik baie spel- en taalfoute aanwesig is wat met ’n goeie redakteur of redigeerder voorkom kon gewees het.  

Lerina het aan Madelaine Page in Keur van 5 Desember 1997 vertel dat haar man, Gunther, haar grootste kritikus is en hoewel hy ’n ingenieur is, heg sy baie waarde aan sy oordeel. “Ek skryf elke dag van so halfnege soggens tot omtrent vyfuur saans. Dan kom Gunther en gaan saam met my deur my dag se skrywery. As hy nie sy goedkeuring gee nie, gaan dit nie uit nie. Hy laat my nooit met ’n onlogiese struktuur verbykom nie. Dit is wonderlik, want hy beskou my skrywery uit ’n man se oogpunt.”

Lerina was in die 1990’s besig met ’n projek waaroor sy baie ernstig gevoel het. Sy het aan Anet Schoeman in Rooi Rose van 10 Junie 1998 meer hieroor vertel: “Dis my reënboog in my sak. ’n Groep van ons versorg mense wat op mynhope woon. Ons vat elke Donderdag vir hulle kos en ontferm ons oor hulle. Dis die soort dinge waarvoor ’n mens nie tyd het as jy jonk is nie. (...) Die lewe voel te kort vir alles wat ek nog wil doen. Die opwinding van ’n nuwe projek laat my voel ek lewe. Dis soos om ’n klont goud te ontdek as jy die dag op ’n wonderlike interessante stukkie inligting afkom.”

Leon van Nierop het hom in Beeld van 24 November 1998 as volg uitgelaat oor Die Mannheim-sage: “Die Mannheim-sage is een van die mees innoverende en opwindende inheemse liefdesverhale nog uit die pen van ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Met die kombinasie van uitmuntende karakterisering, prikkelende historiese gebeure en aangrypende drama is dit geen wonder nie dat hierdie meesleurende sage as die Gone with the Wind van ’n nuwe Suid-Afrikaanse samelewing in wording bestempel word. Die verhaal ondersoek die oorsprong van hierdie gekwelde land se twyfelagtige verlede en hoe hierdie gebeure uiteindelik in ’n inspirerende, demokratiese toekoms kulmineer. Onweerstaanbaar.”

Oor die verskil om vir radio en televisie te skryf en om ’n boek te skryf, vertel Lerina aan Barrie Hough: “As radioverhaal en TV-reeks word dit uitgesaai en dan is dit weg. ’n Boek hou jy in jou hand vas. Dis konkreter. En het dit my nie ’n kick gegee nie! Om dié boek vas te hou. Om vir die kamera te skryf, is nogal beperkend. Jy moet die akteurs, die begroting en talle ander dinge in gedagte hou. En jy maak op akteurs staat om aan jou teks gestalte te gee. Om ’n boek te skryf, is baie vryer. Dis ’n wonderlike ervaring om karakters in jou kop te laat praat. Hulle word daar mens. Dis asof hulle altyd met my praat.” (Rapport-Tydskrif, 4 Januarie 1998).

Terwyl Lerina die storie van die Mannheims geskryf het, het hulle gesin in ’n statige herehuis in Parktown in Johannesburg gebly. Die plek se naam was Mannheims Ruhe en dit is gebou in die tyd toe mense blitsvinnig ryk geword het, maar net so vinnig bankrot gespeel het. Toe die storie oor die radio uitgesaai is, is daar aan mense vertel dat dit “die plek is waar Deborah Mannheim gewoon het”, vertel Lerina aan Lydia van der Merwe (Sarie, 2 Desember 1998). Hulle het die plek in 1988 verkoop om Gunther se besigheid te finansier en het ’n plek in Parkwood gekoop – een van die ou “mynhuise” wat gebou is as deel van die bestuurders op middelvlak wat aan die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem het, se vergoedingspakkette. Die huis is reggemaak en met haar man en die argitek, wat ook ’n Oostenryker is, se invloed het die huis ’n “Oostenrykse klap” gekry.

Lerina het aan Beeld (3 Desember 2001) vertel dat toe sy drie jaar oud was, sy deur die Kinderbybel geblaai het en dit was haar eerste “boekervaring”. Haar ma en pa moes elke aand vir haar die storie van koningin Ester lees. “Geensins om enige piëtistiese redes nie, maar wel om Esther se swierige voorkoms op die kleurblad. Deur die knaende voorlesery het ek uiteindelik die storie woordeliks gememoriseer.

“Dit het uitgeloop op ’n partytjie-truuk wat my liewe ouers bedink het. Op ’n gegewe oomblik is ek na binne ontbied ‘om vir die mense te kom lees’. My gehoor was meestal sprakeloos en het my beloon met tiekies en selfs halfkrone. My eerste professionele optrede as aktrise? Waarskynlik het die gogga my nét daar gebyt!

“Ek onthou my ma, wat in ’n hangmat gelê het en vir my voorlees uit Sneeuwitjie en ander sprokies. En daar in haar wiegende, bootvormige verhoog, word Mamma vir my die wrede stiefma, en die meedoënlose jagter! Sneeuwitjie wat pleit: ‘Asseblief, laat my lewe! Moet my nie doodmaak nie!’ Maar sonder enige genade rig die jagter sy pyl op haar hart! W-h-a-a-a-a! huil ek! Só het ek my eerste katarsis beleef! Van daardie dag af was ek verslaaf aan feëverhale.

“Ná die ontdekking van sprokies het die wonderlike avonture van die Grieke gevolg. Gode wat sterflinge vreemde poetse gebak het. Leda en die swaan. Hoe sou so ’n tête-a-tête gebeur het? Die swaan was nou wel ’n geveerde Zeus, maar die twee het ’n tweeling verwek wat uit ’n eier gebore is! En een daarvan was die beeldskone Helena. Só het die destydse klam voetpaadjies van my tienerjare koers gekry in die sensuele misterie van die antieke tye.

“Dan was daar ook die romantiese riddersages van ’n Edmund Spencer wat my betower het. O, om soos ’n Britomart in staat te kon wees om in ’n towerspieël jou uiteindelike beminde te kan sien, en boonop te ervaar!

“Poësie! Die ontdekking van Shakespeare en Shelley, Burns en Blake. Gedurende my universiteitsjare het dit soos koors in ons bloed gebrand. Ingrid Jonker word ’n boere-Ché Guevara vir ons apartheidsbedompige siele.

“Nou, in die ryper jare van 50, wil ek ook hulde bring aan Tolstoi en Dostojewski wat my van intriges en familiepatrone geleer het. Tesame met Shakespeare was hulle tog die oervaders van sepies en sages. War and Peace is my immergroen gunstelingboek.

“John le Carré verdien ’n Nobel-prys vir die Gobelyn-tapisserie van karakters wat hy verweef het in boeke soos Smiley’s People. By dié meesterskrywer het ek sekerlik die meeste geleer.

“My nuwe manie is oor ’n towerknaap genaamd Harry Potter wat my betower het. Ek is 50 en terug by die towerstories van my kinderjare! Kinds of ewig jonk?”

In 2009 is Lerina vereer toe sy ingesluit is in die Foxwood-landgoed se Tuin van Beroemdes in Houghton in Johannesburg. Haar handafdrukke is daar in sement vasgelê.

Tien jaar het verloop voordat Lerina se volgende roman op die rakke verskyn het. In 2016 word Die leliemoordenaar gepubliseer. Dit is haar eerste misdaadriller en die verhaal se tydsagtergrond is tydens die apartheidsjare en dan ook in die hedendaagse Suid-Afrika.

Iemand het lank gelede vir Lerina ’n baie grusame storie vertel en hierdie storie het by haar bly spook. Toe het sy begin skryf en weer diep in die geskiedenis van Johannesburg gaan delf en dit saamgegooi met misdaad- en riller-eienskappe en Die leliemoordenaar was die gevolg.

Braam Brink en Adam Williams is twee vriende wat saam motorfiets ry. In 1985 hoor Braam by Adam van sy tyd as soldaat en wat hy gedoen het. Hy verdwyn egter in Angola en toe Braam ondersoek instel, word hy dood aangetref en is die bevinding dat dit selfdood was.

Ongeveer 30 jaar later is Braam se dogter, Daniella (Danny), die speurder wat ’n berugte reeksmoordenaar moet vastrek. Dit blyk egter ’n baie moeilike taak te wees, want nes sy dink dat sy hom het, wyk hy weer af van sy modus operandi. Aan die begin het hy elke drie weke as die rooi lelies blom, toegeslaan. Dan word die slagoffer se hart uitgesny en ’n grafsteentjie van klip met ’n lelie daarop uitgekerf, in die hart se plek geplaas.

Danny beweeg al nader aan die moordenaar, maar waarvan sy nie bewus is nie, is dat die moordenaar haar dophou en háár uitgekies het om hom vas te trek.

Sy het aan AJ Opperman vertel (Netwerk24, 17 November 2016) dat sy van mening is dat die moordenaar ’n obsessie gehad het: "Dat hy mense se harte wou verplaas. Die wrede harte. Met harte wat goed kan doen. Sy lelies is natuurlik die mooiste in die dorp.

"Dit het baie jare geneem, ook voor die fisieke skryf begin het. Ek het soms getwyfel. Daardie storie het by my gespook vir ’n baie lang tyd en ek het gedink die storie moet vertel word. En dan het ek maar rondgeloop daarmee en gedink ag, ja, dit gaan nie werk nie. Niemand stel meer belang in die apartheidsjare nie, kry ’n ander hoek.

"Maar die storie wou my nie laat los nie. En die gevolg is Leliemoordenaar. Daarom ook die twee tydperke waarin die storie afspeel."

Hulle het die dik manuskrip altyd saamgeneem wanneer hulle na hul huis op Leisure-baai gegaan het en dan het Gunther dit gelees: "Gunther was die een wat altyd geloof gehad het. Lochner de Kock het in ’n stadium daar vir ons kom kuier en hy het gesê hy wil saamlees. En hulle twee het met groot geesdrif gelees en weer en toe weer. En toe het ek gedink dit kan werk. Nadat ons hom deurgewerk het in Leisure-baai, het ek besluit ek gaan dit voorlê.

"Ek het die skrywer Deborah Steinmair gevra om dit te redigeer. Steinmair het toe vir my laat weet sy het dit nie geredigeer nie, maar dit is ’n verdomp goeie boek. Sy sê toe vir my om saam met Nèlleke de Jager middagete te eet en sy gaan vir haar die boek gee. En Nèlleke het my toe gebel."

Die boek het haar drie jaar geneem om te skryf. Sy het aan AJ Opperman vertel dat wanneer jy skryf, jy sommer alles doen: "Dan speel jy al die rolle – manlik en vroulik. Jy is die regisseur. Om dialoog te skryf, is maklik, want ek hoor mense praat. Hulle praat in jou kop as jy daai ses weke lank deurgebring het. Jy wil jou mense leer ken. En dan daarna vat hulle oor, skryf hulle die dialoog en vertel hulle wat aangaan. Dis gewoonlik as jy ’n droogte kry, dat jy verkeerd dons in een of ander plek en dan moet jy maar teruggaan."

Op LitNet skryf Riëtte Rust dat Lerina se misdaadroman beslis nie jou alledaagse misdaadroman is nie. "Eerstens kan die leser gou aflei wie die moordenaar is. Tweedens is Die leliemoordenaar een van die grusaamste romans in Afrikaans. Jy ril en gril tot in jou haarwortels. Derdens is die storie kompleks en oorspronklik. Leon van Nierop sê juis op die agterplat dis 'propvol warm intrige, spanning en onverwagse wendings'. Vierdens word die liefdes-element totaal onderbeklemtoon. En laastens worstel die leser met vrae wat die spanning geleidelik laat opbou. Soos: Sal Danny weens haar vrees vir vuurwapens kan skiet wanneer sy uiteindelik die monster vang?

"Dit het duidelik fyn skryfwerk gekos om van die moordenaar ook ’n mens, oftewel ’n volronde karakter, te maak. Hy is ’n gebroke man wat wraak neem op dié wat indirek verantwoordelik is vir die dood van sy vrou en kind. Eienaardig genoeg is die leser saam met hom verlig oor een van sy moordpogings.

"Erasmus se roman is hoogs toeganklik. As aktrise hoor sy waarskynlik ook haar karakters praat, so vlot vloei die dialoog. Soos dit ’n goeie romansier betaam, het sy aan elke karakter ’n eiesoortige praatstyl gegee. (...) Die skrywer se navorsing is puik. Erasmus sou moes ondersoek ingestel het na die (ware) Cradock Vier wat in die apartheidsjare vermoor is, moordwapens, die effek van sekere dwelms en die bosoorlog in Angola. Daarby hoort sy teen dié tyd ’n kenner van amarillisse te wees. Die uitbeelding van die milieu slaag eweneens, veral wat Danny se Westdene-huis betref. Wanneer sy haar intrek neem, weerspieël die plek absolute sielloosheid. Ook kenmerkend van daardie stadium van haar lewe. (...)

"Die roman bevat wel enkele jakkalsies. Hier en daar ontsier clichés die skryfwerk: hande is om ’n stuurwiel geklem, iemand skulp toe tussen vreemdes en iets bars soos ’n sweer oop. Soms gaan die skrywer ook te rojaal met ellipse te werk. Daarby is wagte tog aan diens, nie op diens nieDis ook nie in gemeen nie, maar gemeen. Dan word daar na die High Mile Club verwys, pleks van die Mile High Club. Karakters word ook meer as een keer in die solar plexus geskop. Nie alle lesers weet waarskynlik dat dit die gedeelte bo die naeltjie is nie.

"Hoewel die liefdeselement dikwels sterk in misdaadromans figureer, is dit nie hier van toepassing nie. ’n Jammerte, want ’n geliefde wat vroeër ingebring is, sou dalk net die hoofkarakter (wat obsessief is oor haar werk) meer tot haar reg kon laat gekom het én vir ’n bykomende lekkerlees-element gesorg het.

"In geheel gesien, is Die leliemoordenaar ’n welkome toevoeging tot die misdaadgenre. Teen die laaste paar hoofstukke haal jy weens die spanning so vlak asem dat dit voel of jy jou bewussyn gaan verloor. Dis ’n moet-lees vir rillerliefhebbers, maar word beslis nie vir sensitiewe lesers aanbeveel nie."

Helen Schöer skryf op Netwerk24 (5 Desember 2016) dat die leser weet wie die moordenaar  is en "dat hy met ’n streng kalender werk. Ek wou kreun elke keer as die speurspan ’n lokbokkom (red herring) opvolg en ’n ware leidraad miskyk.

"Die spanning bou op tot ’n groot konfrontasie. Gaan Danny kan skiet as dit nodig is? Wat die vraag nog komplekser maak, is dat die moordenaar se gebrokenheid, die kykies in sy kop en die terugflitse na sy verlede, van hom ’n mens maak. Hy wreek hom op die mense wat van hom ’n monster gemaak het en die leser kan nie help om sy bevrediging in sy laaste moordpoging te deel nie.

"Erasmus het uitstekende navorsing gedoen en die detail rondom die moord-instrumente, recces, die donkerste kant van die apartheidsregering en die Bosoorlog in Angola is fassinerende agtergrond."

Ná die geboorte van haar enigste seun, Stefan-Pieter, het sy besluit om haar tap shoes op te hang en meer op haar skryfwerk te konsentreer. "En toe word ek ouma van twee pragtige kleindogters. Dis nogal lekker om met hulle te speel. En toe het ek so ’n bietjie van ’n nare klap gekry van kanker. Maar nou skryf ek. Daar in die studeerkamer is my lêplek. Ek dink ek is net ’n storieverteller wat smokkel met karakters."

Op 20 Augustus 2018 is Lerina Erasmus in die Donald Gordon-hospitaal aan kanker oorlede. Sy word oorleef deur haar man Günter Schmikal, haar seun, Stefan-Pieter, sy vrou, Michelle, en twee kleinkinders.

In Die Burger van 22 Augustus 2018 skryf Sandra Prinsloo dat Lerina nooit haar passie vir haar werk verloor het nie: "Sy het daarby ’n wonderlike sin vir humor gehad; sy was ’n lieflike, sagte mens. Sy en haar ingenieurman, Günter, se verhouding was die love story van ons tyd. (...)

"Sy was definitief Anna Neethling-Pohl se topstudent; sy het haar eie sketse geskryf en daarin opgetree."

Leon van Nierop was baie hartseer nadat hy van haar heengaan gehoor het. "Die sukses van Wolwedans in die skemer kan toegeskryf word aan haar ontwikkeling en vertolking van die karakters. Sy het ’n sagte menslikheid gehad en ’n wonderlike humorsin. Sy het vier jaar gespeel in Wolwedans. Dit was ’n vreugde om haar op stel te hê; wat ’n verlies vir die bedryf."

Mysi Louw op LitNet: "Die Mannheim-sage het baie kleurvolle karakters gehad en die navorsing was tot in die fynste detail gedoen. Net iemand soos Lerina kon sulke flambojante karakters skep soos Kit Molloy, Deborah von Albein en Ma-Fytjie. Haar karakters was soos sy: intens en vrolik en vurig en lewensgetrou. Lerina se afsterwe laat ’n groot leemte wat nie maklik gevul sal kan word nie."

Publikasies

Publikasie

Die Mannheim-sage: Die fortuinsoekers

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2007
  • 2017

ISBN

  • 0628036361 (sb)
  • 9780620386623 (sb)
  • 9780798174558 (sb)

Uitgewer

  • Halfweghuis: Perskor
  • Johannesburg: Leguan Trading
  • Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Mannheim-sage: Die goudkewers

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2007
  • 2017

ISBN

  • 0628037120 (sb)
  • 9780620336630 (sb)
  • 9780798174831 (sb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Johannesburg: Leguan Trading
  • Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Mannheim-sage: Die goudbaronne

Publikasiedatum

  • 200
  • 2017

ISBN

  • 0620360097 (sb)
  • 9780798174855 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: L Erasmus
  • Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die leliemoordenaar

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174213 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Lerina Erasmus beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Lerina Erasmus (1946–2018) appeared first on LitNet.


Helena Gunter (1954–)

$
0
0

Gebore en getoë

Helena Gunter is op 19 November 1954 op ’n Rûensplaas, Rhenosterfontein, in die distrik Heidelberg in die Suidwes-Kaap gebore. Die plaas is naby die mond van die Breërivier geleë.

Haar pa, Piet Gunter, was die jongste seun van Christiaan en Elizabeth Gunter. Hy het grootgeword op die plaas Rietkuil naby Suurbraak, waar sy pa ’n bywoner was. Helena se oupa het daarna as bywoner by die Hopleys op Rhenosterfontein gaan werk. Toe die Hopleys uitgeboer het, het haar oupa Chrisjan die plaas gekoop. Piet en sy broers het die plaas uiteindelik afbetaal. Helena se ma, Petrorina Doris Stemmet, was uit ’n vooraanstaande en welgestelde familie van Barrydale. “Piet en Doris was dus ’n ‘mixed couple’ (bywonerseun en rykmansdogter),” vertel Helena aan LitNet, “terugskouend, ’n situasie wat ek vir niks in die wêreld verruil nie, want die mense-dinamiek daaromheen het genadiglik aan my afgeskuur, en is ’n belangrike ‘emosionele mandjie’, waaruit ek put, as mens en skrywer.”

Helena beskryf haar grootwordjare as idilliese en bevoorregte jare, as oudste kind van vier, op die plaas waar ’n “feodale bestel” van wit eienaar en bruin plaaswerkers ’n mikrokosmos van die groter Suid-Afrikaanse werklikheid van die tyd was.

Sy het twee susters, Elizabeth, ’n visuele kunstenaar en kunsdosent aan die Universiteit van Stellenbosch, en Petro-Rina, verkiesingsprojek-koördineerder vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en gastehuis-eienaar in Bredasdorp, en een broer, Francois, ’n haarkapper op Swellendam en gastehuiseienaar by die strandoord Witsand.

Sy het reeds as kind geskryf, vertel sy aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 19 April 2008). “My opstelle was verskriklik gesellig, kontreiagtig, landelik. As kind het ek MER, Alba Bouwer en Audrey Blignault gelees. My heel eerste kortverhale het ’n groot skoot van die romantiek van hul plaasstories, die plaaslewe, gehad. Daarom moet ek altyd luister en daarop bedag wees dat ek nie daardie soort romantiek verder dra nie.”

Helena gaan skool op Heidelberg, waar sy in 1972 matrikuleer. Haar eerste gepubliseerde werk was ’n opstel wat in haar matriekjaar in Poort gepubliseer is.

Sedert sy kan onthou, was boeke vanselfsprekend. “My pa en ma was lesers. My ma was ook ’n goeie storieverteller – sy kon ’n plot pak sodat jy wou luister tot die einde.”

Wat haar skryfwerk betref, is Helena op skool deur haar onderwysers geïnspireer. Reeds op laerskool het klasonderwysers soos Frikkie Huysamen en Freddie Visser haar talent geïdentifiseer en aangeprys en op hoërskool was dit onderwysers soos JS Labuschagne, Nico Burger en Leon Fouché en onderwyseresse soos Annamarie Venter, Aletta Vermeulen en Nicolene Lamprecht wat haar verder aangemoedig het. (LitNet)

Verdere studie en werk

Na skool is Helena na die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar vir ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en geskiedenis as hoofvakke inskryf. In 1975 verwerf sy haar BA en daarna ’n Hoër Onderwysdiploma. Sy gaan gee Afrikaans en geskiedenis aan die Hoërskole Strand, DF Malan in Bellville en Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch.

In 2002 skryf sy haar in vir ’n honneursgraad aan Unisa in en in 2003 skryf sy hierdie graad agter haar naam. Haar belangstelling in “literatuur as geskiedenis” haar om nog verder te studeer en sy behaal in 2005 ’n MA in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch onder Marlene van Niekerk, met spesifieke klem op postkoloniale terugskrywing in Afrikaans.

Helena is getroud met Gerrie Smit, ’n opvoedkundige sielkundige. Hulle het twee kinders, Hannes en Petro-Anne Morkel, en sy woon sedert die sewentigerjare op Stellenbosch.

In 1983 verskyn ’n skets van Helena in Die Landbouweekblad en daarna niks nie, tot 2007, toe haar debuutbundel kortverhale, Op ’n plaas in Afrika, by Human & Rousseau verskyn. Volgens Helena skryf sy omdat sy nie anders kan nie. “Dis wat ek kan en wil doen. Deur te skryf, oriënteer ek my in die lewe waaraan ek my permanent verwonder. Die tydperk toe ek nie geskryf het nie – sedert my eerstejaar op universiteit, tydens my onderwysloopbaan en tot nadat my kinders uit die huis uit is – voel nou onwerklik. Toe my kinders destyds gebore is, was niks anders ooit weer belangriker nie. Ek moes en wou – totaal uit my diepte geskrik en verbouereerd – hulle grootkry. Toe op ’n dag is hulle groot (en ek hoop maar hulle ly nie te veel aan hulle ma nie!) en die ma ontdek dat sy dan nog nie geskryf het nie, soos sy eintlik wou nie! En toe begin sy maar.” (LitNet)

Op ’n plaas in Afrika het in 2008 die Eugène Marais-prys gewen vir die beste debuut of vroeë letterkundige werk, en was ook ’n finalis vir die UJ-kompetisie vir skeppende werk. Dit het ook in aanmerking gekom vir die Rapport-Jan Rabie-prys.

Sy vertel aan Willem de Vries (Die Burger, 25 Mei 2008) dat as dit nie was vir wat sy geleer het terwyl sy die MA in kreatiewe skryfwerk gedoen het nie, die stories nie sou uitgewerk het soos dit moes nie. “Ek kon die kritiek en insette assimileer en neem wat ek nodig had, maar ’n student moenie verwag dat ’n mentor die skryfwerk vir hom moet doen nie; niemand kan jou leer skryf nie ...”

Al bied die plaaslewe die agtergrond in die verhale in Op ’n plaas in Afrika, kan ’n mens glad nie praat van gemoedelikheid as jy hierdie verhale beskryf nie. "Die verhale is ontrustend, vergrype word gepleeg," skryf Willem de Vries.

Abraham de Vries (Die Burger, 22 Oktober 2007) sê: "In die bundel skuif perverte gesagsfigure na plekke van gewaande veiligheid – dis boere, onderwysers en ’n hoogheilige maatskaplike werkster. In die plek van plaasromantiek het plaasmoorde gekom, bloedskande en verminking, betasting en liefdesverraad oor kleur- en geslagsgrense. Haar verhale is ’n draaipunt in die Afrikaanse kortkuns."

Willem de Vries (Die Burger, 25 Mei 2008) sê Helena se manier van skryf laat hom dink aan die Duitse skrywer Bernhard Schlink se bundel Flights of love, waarin óm die werklike storie geskryf word. “Die terloopsheid waarmee ’n kind snarsies hoor en dinge te wete kom, die storie aan die rand van die karakter se belewing, verg ’n besonderse begrip van hoe stories vertel word. Sy sê die mense van die streek waar sy grootgeword het naby die Breërivier, sal opmerk ‘hoe dikwels is die storie nie vertel nie ...’ Hierdie sin word in die eerste verhaal, ‘Agter die groen deur’ dubbelsinnig – en tekenend van die gelaagde verhale in die bundel.”

Die titel, Op ’n plaas in Afrika, slaan terug na Karen Blixen en Olive Schreiner, asook die liedjie oor Mannetjies Roux, skryf De Vries. “Ek skryf vanuit ’n bepaalde generasie. Die plaaslewe van voor 1994 is immers nie wat talle meen dit was nie.”

Helena vertel aan Haydee Morgan-Hollander (LitNet) dat die titel praat vanuit ’n postkoloniale tyd terug met bogenoemde dames wat uit en oor ’n koloniale tyd geskryf het. “Die bundel poog om die maatskaplike werklikhede op ’n postapartheid ‘plaas in Afrika’ te fiksionaliseer (waar die skrywer dit waag om, dalk erg vereenvoudigend, apartheid te beskou as ’n laaste stuiptrekking van kolonialisme).” En die volgorde van die verhale is doelbewus, gaan sy voort. “Die ouderdomme van die protagoniste verhoog chronologies. Die stemme word verteenwoordigend van die eertydse plaasbewoner wat later in sy lewe verstedelik. Die plaas in Afrika het verskuif na ’n ander ruimte waarby die eertydse plaasbewoner (die kind wat daar grootgeword het) moet aanpas en waar hy/sy (as volwassene) moet oorleef. Die titel resoneer dan uiteindelik ironies.”

Willem de Vries (Die Burger, 25 Mei 2008) skryf dat teen Bernhard Schlink al die kritiek uitgespreek is dat hy op minusieuse wyse aandag en lewe gee aan ’n tyd waaroor volgens sommige eerder nie veel gesê moet word nie, en wil weet of Helena se werk aansluiting vind by dié van Schlink.

“Hy is in 1944 gebore; toe hy een jaar oud was, was die Tweede Wêreldoorlog dus verby. Sy generasie is dus opgevoed deur mense wat Nazi’s was. Vir hom gaan dit oor die spanning om daarmee saam te leef; hy wil die ingewikkeldheid daarvan rapporteer (of liewer die ingewikkeldheid probéér weergee). Soos sý werk, slaan myne op ’n spesifieke generasie. Ons bewuswording van die omvang van onregte gepleeg in Suid-Afrika het vir die meeste mense ná demokrasie gekom, en is vir talle ’n moeilike kopskuif. Ek probeer dit fiksioneel aan bod bring, ter verligting.”

Helena verduidelik aan Haydee Morgan-Hollander op LitNet: “Ek dink ’n mens kan veralgemenend sê dat die wittes van my generasie aan ontnugtering ly. Ons is vir lank die ‘wit mitologie’ gevoer – geleer dat die land aan ons (die wit nasionaliste) behoort, dat ons moet veg daarvoor, dat ons uitverkore en maatskaplik meerderwaardig is, dat ons alle eiendomsreg het, ens. Baie lede van my generasie is ontnugter; hulle vind die kopskuiwe ingewikkeld, soms onmoontlik, en ervaar gevoelens van eensaamheid en uitgeworpenheid. Ek poog om die geskiedenis rondom daardie ervarings lig en lug te gee. Om dit verswyg, om nie die spoke van die verlede oop te skryf nie, om in die naam van vooruitgang onder ’n 'reënboog' voort te huppel, sou nie skoonmaak nie, dit sou ontvlug, ons vasvang in ’n 'patologiese rouproses'."

Wanneer ’n mens fiksie skryf, kan die spel tussen feit (of werklikheid) en fiksie tot ’n komplekse tipe spanning lei. Helena vertel aan Willem de Vries dat sy en haar suster, Elizabeth, ’n skilder, gesels het oor realisme in hulle werk. "Realisme is nie ’n naïewe nabootsing van die werklikheid nie. Ons albei gebruik beginpunte in die ‘werklikheid’, maar daarvandaan word dit ’n nuwe verbeelde werklikheid wat kommentaar lewer. Die stories het telkens die herkenbare kontrei-gegewe, maar van daar af “lieg ek ’n nuwe waarheid”, soos wat André Brink gesê het. De Vries het geskryf ‘stories werk met soos’.”

Op Haydee Morgan-Hollander (LitNet) se stelling dat die voorblad van Op ’n plaas in Afrika ’n illusie van nostalgiese inhoud kan skep wat terughunker na gesellige, landelike ruimtes, reageer Helena as volg: “Dit is doelbewus en dien om my sardoniese aanslag te versterk. Die potensiële leser word uitgelok, want ek wil juis die inhoud – wat verontrustend aandoen – kommunikeer. En ek dink nie dit is onbillik nie, want ek glo aan die geestelike volwassenheid van die Afrikaanse leser. Dieselfde leser wat behoefte het aan gesellige kontreikuns, het waardering vir die terapeutiese waarde van minder gesellige werklikhede wat gekonfronteer moet word.”

Die meeste van die verhale speel af in die Suid-Kaap, daar waar Helena haar kinderjare deurgebring het. Sy deel die Overberg, waar sy grootgeword het, met ’n groot aantal skrywers uit daardie streek, onder meer MER, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Con de Villiers, Freda Linde, Wilma Stockenström en Marlene van Niekerk. Morgan-Hollander wou by Helena weet of die feit dat haar omgewing deurweef is met groot geeste en mentors, ’n invloed op haar gehad het. “Hulle is die heiliges wat my leefwêreld bewoon. Uys Krige het byvoorbeeld eendag op my ouma se sitkamerbank sit en werk. Ek het nie geweet wie hy was nie, maar die voordrag van ‘die oom in die wit speedo’, die timbre en ritme van sy stem, het my nog nooit weer verlaat nie. Omgewing en die mense wat dit bewoon, en hoe dit afskuur, is nie toevallig nie, en ewig deel van die balansstaat waaruit ek put.”

In Helena se verhale sal die leser meer as een maal ’n vrou as hoofkarakter of protagonis aantref. En in elke verhaal staan hierdie vroue voor ander probleme in hulle verhoudings of word hulle gekonfronteer met ’n ander "manifestasie van seksualiteit". Morgan-Hollander skryf op LitNet dat die openingsverhaal, “Agter die groen deur”, soos “Tweespoor”, seksuele molestering as tema het. “Agter die groen deur” vertel die verhaal van Ouma wat lank gelede een nag ’n bruin dogtertjie uit die dam geduik het nadat haar ma, die huiswerker, inderhaas die plaas verlaat het. Maar dan is Ouma nie, soos in die tipiese gesellige kontreiverhaal, die beskermende gesagsfiguur nie ...

“Omdat ek beskermende en koesterende gesagsfigure geken het, staan ek verbyster voor inligting omtrent ander se mishandeling. Watter soort energie word deur ’n slagoffer en die gesagsfiguur in sulke omstandighede opgeklits en hoekom? Dis wat ek wou ondersoek. Enersyds lei en verlei ek my lesers deur hulle te lok met die onskuldige landelike, die mooie, die gedeelde bekende, soos wat dit gefiksionaliseer is in die vroeëre literatuur. En net as hulle gerus is, en saam met my onthou en terugverlang, herinner ek hulle aan die onheil wat saam met die wildesonsoekertjies geblom het en steeds blom (as ek my koerante reg lees).

“Andersyds is ek lief vir die spel met simbole. Dan gebruik ek landelike verwysings as begeleiders. So word die suidoostewind, jerseybul, trane van bloed, hare soos slange, die Karoo-Erinys simbole van iets meer.”

Iets wat Helena tans interesseer, is wat sy die toe-eiening van onderdrukte mense noem, skryf Kirby van der Merwe (Die Burger, 19 April 2008). “Dis iets wat ek probeer verstaan, hoe die mense wat saam met my op die plaas grootgeword het, wanneer ek hulle nou raakloop (en baie van hulle is welvarende beroepsmense wat in Kaapstad woon), vir my sê hul jare op die plaas was die beste jare van hul lewe.

“Ek verstaan dit nie. Want hoe kan hulle – as jy vergelyk waar ek in die groot plaashuis grootgeword het en waar húlle moes oorleef – vir my sê dié jare op die plaas was die beste in hul lewe? Die feit dat hulle dít sien as ‘beste’: die boer-as-humanis, wat vir my ’n skaap gee, meel, kos, met ander woorde troosgawes in die plek van dinge soos eienaarskap, ’n ordentlike salaris, waardige lewensomstandighede – dit is vir my ’n bewys van hoe jy vrede maak met jou benadeling, jou dit toe-eien en die beste van die slegte saak maak. Dís vir my ’n verskriklike ding. En dit is vir my ’n bewys waarom jy nooit kan ophou bely nie, want mense is so verontmenslik, ontheem, verstrooi, kultureel tot niet gemaak.

“Ek wil ondersoek wat daardie soort onderdrukking aan die psige van ’n mens gedoen het ... Jy het saam met ’n ‘klimmeidjie’ op ’n werf grootgeword. Julle het saam vroetangs in die gras gesoek. Julle het saam malvablommetjies vir naels aangesit, maar jy het nooit besef sy het nie ’n naam nie. Maar dit was jul verhouding. Nou as volwasse bevoorregte mens vra ek myself af hoe ek my destyds as dié sensitiewe kind kon uitgee sonder om dít raak te sien?

“Daar’s vir my geen verskoning daarvoor nie; en al wat ek kan sê, is dis hoe dit was. Vir jou as kind was dit nie verkeerd nie. Daarmee probeer ek onder geen omstandighede die verlede vergoeilik nie.”

Morgan-Hollander wou by Helena weet of sy gesprekke met haar karakters voer. “Indrukke (ook sintuiglikes) en insigte praat met my. Sommige is met my sedert ek kan onthou. Dit krap my kop totdat ek dit aanteken, ek droom daarvan, dit pla my. Al manier waarop ek daarvan ‘verlig’ kan word, is deur dit te fiksionaliseer. Die indrukke kry eers lyf (karakter en storie) voor die rekenaar. Die titelverhaal in dié boek het byvoorbeeld begin by die gekraak van ’n vloerplank in my tant Mary se huis op Swellendam.

“Ek neem mense waar, gedurig, só opsigtelik dat my kinders my dikwels maan om ’nie so te kyk nie’. Ek is elke woord verskuldig aan die mense wat rondom my leef, wat my opgevoed het, wat steeds my lewe deel, wat daagliks die vonke verskaf waarvan ek afleef. Ek kan niks skep of voortbring daarsonder nie. Ek staan voortdurend verwonderd voor die lewe. Ek het nie antwoorde of raad nie; ek kan slegs die spanning wat uit ingewikkeldhede spruit, vanuit my (beperkte) gesigsveld probeer kommunikeer. Die mens se reaksie op sy omgewing, hoe dit in sy gemoedstoestand en gedrag wys, dit fassineer my, in alle soorte menslike groeperings, of dit in familieverband is of nie. Daar is mense en indrukke wat my bybly, dankie tog, maar ek sal die een se neus op ’n ander se gesig by nog ’n ander se maniërismes sit, en so ’n nuwe, verbeelde karakter skep.”

Abraham de Vries skryf in sy resensie (Die Burger, 22 Oktober 2007) as volg oor Op ’n plaas in Afrika: “Ewe merkwaardig as die inhoud is haar fyn komposisievermoë: die geloofwaardige bymekaarvertel van diskrepante, uiteenlopende gegewens en die fyn aandag aan detail om aan toestande ’n mensehart, ’n menslike gesig (Blake) te gee. Gunter se karakters is nie idee-poppe nie, hulle is warm menslike, verlate, woedende, soekende figure in wie se emosies die verskynsels en gees van ons tyd uitspeel.

“Ek noem slegs die meisie in ‘Tweespoor’ met die handtastelike musiekonderwyser en die ma wat altyd met die sleutels in die hand op pad is, ’n jeugkonflik waaruit dan haar vergeefse hunkering groei om die verlate plek in haar menslike verhoudings te vul. En dis tog ’n sonde om die humor van daardie versmade, weerbarstig eerlike vrou van die slotverhaal te mis, veral haar geselsery met die heksebroedsel van kerklike afgodery en gebed wat haar man en sy soetkoek-skelmpie se ‘belangrike werk’ vergoeilik!

“By die verhale ánderkant die plaas – die inklank van Dana Snyman is so bedoel! – was hier nie ruimte nie. Daar’s nog baie redes hoekom Helena Gunter se Op ’n plaas in Afrika so werklik uitstekend, én ’n draaipunt in die Afrikaanse kortverhaal is.”

Op LitNet skryf Andries Visagie dat Op ’n plaas in Afrika ’n werklik indrukwekkende kortverhaalbundel is. Die taalgebruik is “verfrissend suiwer en aanskoulik – moontlik omdat die plattelandse omgewing waarin die verhale gesitueer is, noodwendig vra vir stilistiese keuses uit die ouer en suiwerder woordeskat van Afrikaans. (...) Helena Gunter verkies klaarblyklik om langer verhale te skryf. Af en toe kry ’n mens die indruk dat sy soms te veel gegewens in een verhaal wil opneem en dat haar verhale selfs geslaagder sou gewees het indien sy die gegewens binne die breër opset van ’n roman kon uitwerk. Haar tydsame verteltrant en aandag vir detail skep beslis die indruk dat sy ook as romanskrywer sukses sal kan behaal.

Op ’n plaas in Afrika is ’n pragdebuut wat lesers terugvoer na die verlede, maar ook uitdagende vrae oor die hede en die toekoms stel. Die ondersoekende leser sal aanklank vind by Helena Gunter se deurdringende ondersoek na die brandpunte in die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing, spesifiek die ontstellende omvang van kindermolestering en die tergende grondkwessie.”

In Rapport (19 Oktober 2007) beskryf Rachelle Greeff hierdie bundel as een van die beste Afrikaanse kortprosa-debute in ’n geruime tyd. Die bundel is tegelyk toeganklik en genuanseerd. “En mens hoop Helena Gunter se uitgewer, Human & Rousseau, koester haar tot in die lengte van haar kreatiewe dae. Een swaeltjie maak nie ’n somer nie, maar dit wil lyk na ’n outentieke nuwe stem. (...) Gunter gee uitstekend gestalte aan haar motto (van Abraham H de Vries): ‘Laat heimwee by ons nie uitvee wat ander juis onthou nie.’ Voorwaar stories wat jy sal onthou.”

Neil Cochrane skryf in Tydskrif vir Letterkunde: "Gunter vlek die kompleksiteite en broosheid van die menslike kondisie tot op die been oop. In verhaal na verhaal ondermyn sy gevestigde kodes, oppervlakkigheid en pretensie. Sy toon aan die leser wat agter oënskynlike normaliteit lê – want niks is soos dit op die oog af lyk nie. Die karakters in haar verhale is voortdurend in konflik met hul eie demone – hetsy hierdie demone te make het met owerspel (‘Alleen ons beste’, ‘Die haarsny’ en ‘Op die spoor van die heilige maagd’), verlies (‘Herfsdae in April’), kindermolestering (‘Agter die groen deur’ en ‘Tweespoor’) of patologiese jaloesie (‘Langs die Breede’). (...) Hierdie leser is hoogs in sy skik met hierdie debuutwerk. Die verhale is intens, onthutsend en eerlik. Dit laat die leser ongemaklik in sy/haar leunstoel rondskuif, want die skryfster laat die leser nie vir ’n oomblik met rus nie – ’n konstante emosionele appèl word gemaak. ’n Uitmergelende, dog hoogs bevredigende leeservaring. Hierdie debuutwerk hou veel belofte in.”

In Desember 2008 sluit Helena se leeskeuse Chris Marnewick se Shepherds & butchers in, asook Thin blue (Jonny Steinberg), Chinchilla (Nanette van Rooyen) en Alles mooi weer (Karin Cronjé) (Die Burger, 24 Desember 2008). Haar gunsteling was moeilik om te kies totdat sy 30 nagte in Amsterdam van Etienne van Heerden opgetel het. “En nie kan neersit nie. Onsensitief, om nóú ’n seksbehepte vroulike karakter so ru-grappig te fiksionaliseer? Nee. Want tante Zan maak – heerlik grotesk – korte mette met al wat gewelddadige ‘knuppel’ is. Sy is soos ’n dawid-worteltjie vir ’n oorhoopte post-apartheid-dikderm. In ’n onlangse koerantartikel is die Afrikaner aangeraai om vir hom voorsate te ‘kies’. Dankie tog vir hierdie tante uit die Karoo; nou hoef ek nie Mantatisi te kies nie.”

Helena vertel op LitNet dat sy trots is daarop om op hierdie ouderdom “uit die kas” te kom met haar skrywery en te sê wat sy sê. “Ek vind die waarde wat aan jeugdigheid geheg word in Afrikaanse literêre kringe ietwat komieklik, indien nie benepe en kortsigtig nie. Soms kry ek die gevoel dat die post-50 stem nie tel nie, asof daar niks te leer is uit die leefwêreld van ’n generasie wat ongelooflike ryk sosiaal-maatskaplike en politieke wisseling in hierdie land deurleef het nie. Ek glo ’n jong, wit, Afrikaanse mens in hierdie land het ’n vennootskap in sy erfenis, en moet deeglik kennis neem van sy geskiedenis. Slegs deur die verlede te verstaan – werklik te ken en te begryp, die goed en sleg – gaan hy sy bagasie reg kan bestuur en ’n ingeligte keuse vir die toekoms kan maak. Die fiktiewe metafoor (’n goeie storie, waarin betekenisvolle lewensdrama fiksioneel opgestel word) is so na as moontlik aan die eerstehandse belewenis. (Mens leer meer uit die fiktiewe ‘verlewendiging’ van ’n geskiedenis as uit ’n geskiedenishandboek.)

“Wat die redenasie betref van ‘ons het nie die wette gemaak nie, so ons hoef nie te weet, of verantwoordelikheid te neem nie’ – in sy erfenis het ’n volgende generasie ’n vennootskap met ’n vorige, teen wil en dank. (Jy kan nie jou mediese graad op Stellenbosch gekry het, nou ’n dokter in Londen wees met ’n huis op die Teems, en nie ’n vennoot in bevoordeling gewees het nie. Of uit ’n wit huis in Bellville kom, en nou aan US studeer, en nie as gevolg van vorige bevoordeling is waar jy is nie, al is jy ná ’94 gebore.) Nog ’n oortuiging wat nie vir my waterhou nie, is dat werk wat die verlede ophaal, ’n ‘gevashou aan die verlede is, in plaas daarvan om vorentoe te gaan’. ’n Literêre bemoeienis met die verlede is nie ‘teruggryp’ of ‘vashou’ nie; dis ’n nodige konfrontasie wat oopmaak en skoonmaak, dit gee geleentheid vir her-oriëntasie, vir beter begrip vir die verlede en hede. Met die komplekse geskiedenis van hierdie land is dit onmoontlik om te kan voortdartel asof die gevolge van 358 jaar se kolonialistiese bestelle, gaan oplos in die ‘reënboognasie’ van 16 jaar. Om feëverhale oor die hede te skryf (in die naam van vooruitgang!), is ontkenning, dit ontduik verantwoordelikheid, en is disrespekvol.”

In 2011 verskyn Helena se volgende kortverhaalbundel, getiteld Met koffer en kaart. “Ek het vir die navorsing van Met koffer en kaart baie baat gevind by die werk van die Sloweense filosoof Slavoj Žižek, oor die sielkunde van Violence (2008),” skryf Gunter. Zižek het navorsing gedoen oor die uitbreek van geweld in Israel en Palestina. Hy redeneer dat subjektiewe geweld tot uiting kom in moord, aanslae en oorlog. Daar is volgens hom ook twee variasies van objektiewe geweld: simboliese geweld uitgedruk in taal en daarby aansluitende vorme en sistemiese geweld met katastrofiese gevolge vir politieke sisteme. (Ongepubliseerde resensie van Carina van der Walt by Helena Gunter gekry.)

Willie Burger het in sy resensie in Die Burger (30 Mei 2011) geskryf: "Gunter is ’n bedrewe verteller wat die verhale elkeen afsonderlik, sowel as die aansluitings by mekaar, slim uitgewerk het. Sy sluit nou aan by die konvensies van die Afrikaanse vertelkuns – nie by die uitdagender voorbeelde van die Afrikaanse kortverhaalkuns nie, maar by die konvensionele kortverhaal. En die swakte van so baie (veral ouer) Afrikaanse kortverhale, die voorliefde vir ’n patosvolle draai naby die einde, is ongelukkig ook opvallend in van hierdie verhale." En hy sluit af met: "Maar dié pogings slaag nie heeltemal nie. En die rede daarvoor is dat die karakters en die verteller nooit regtig oortuigend hul sekerhede ontneem word nie – byna soos ’n gesprek oor ongeloof by ’n Bybelstudiegroep waar almal byvoorbaat weet dat niemand hulle eie geloof gaan bevraagteken nie.

"Ten spyte van beskrywings van ontnugterende en droewige ervarings in ons land, konfrontasies met geweld en armoede, word dié verhale nooit werklike konfrontasies met ’n nuwe manier van dink óór die ervarings nie. Dit is asof alles bly steek in ’n klein realisme en die ongemak wat deur situasies gewek word (soos die dosent wat haar studente na die township neem vir navorsing, of in die hof gekonfronteer word met die moordenaars van haar seun) word nooit onthutsende konfrontasies wat lei tot ’n bevraagtekening van eie uitgangspunte en verstaan van die wêreld nie."

Hierop het Carina van der Walt in haar resensie, wat nie gepubliseer is nie, gereageer: "Gunter se verhale eis egter deurgronding, ’n deurgronding wat Willie Burger nie goed onder die knie gehad het nie. Hy het Gunter se kortverhale afgemaak as 'konvensioneel'. Hy lees nié die elke dag se onsigbare geweld daarin raak nie. Die blindheid van die resensent versterk die vrouekarakters se stiltes. Hy word mede-instandhouer. Wie oë het om te lees, laat hulle herlees."

In By van 19 Februarie 2011 vertel Helena meer oor Met koffer en kaart aan Willemien Brümmer: "In hierdie bundel het die hoofkarakters die plaas verlaat en intussen stad toe getrek. Voorop is steeds die geweld waarmee Afrika wit indringing vergeld en die gevolge van ’n traumatiese verlede. Dié keer is die plaas egter ’n sluimerende aanwesigheid.

"Die hoofkarakters se reise terug na die landelike en na hul Europese verlede is ’n soort ontvlugting na ’n skynbaar onskuldige jeug; na ’n vals geborgenheid wat verby is. Die geheen-en-weer is ’n simptoom van ’n gespartel, aan ’n behoefte om oor te wil begin."

“Om oor te begin is ’n behoefte onder baie van my generasie wat wel bewus raak van die skade," verduidelik Helena aan Brümmer. "Jy wil terugloop op jou spore, en jy wil kyk waar kom dit vandaan. Jy wil ook weer gaan kyk na die Europese leefwyse, want dit gaan deel van jou bly; jy is wit. Ek het byvoorbeeld geen begeerte om myself ’n Afrikaan te noem nie, want ek weet nie of ek welkom is nie. Ek beskou myself as ’n nageslag van mense wat as gaste hiernatoe gekom het – en daardie gaste het hulle wangedra.”

Vir Brümmer kan jy reeds met die lees van die eerste verhaal van die bundel ’n idee kry hoe die res van die bundel gelees moet. Die kunskritikus Lydia staan langs die beeldhouwerk van Christa getiteld "Ons vir jou", waarmee sy die trauma van ’n aborsie toe sy jonk was, probeer verwerk.

“Deur die heropstelling van herinneringsvoorwerpe word die genealogie van ’n wond ontgin," verduidelik dié kunskritikus. En later: "Uiteindelik word ’n monument gebou, iets wat die trauma opneem en absorbeer, en die vrywaring daarvan impliseer, en sluiting, ook vir die kyker.”

Op baie vlakke is Helena se Met koffer en kaart vir Brümmer ook ’n monument "wat in die teken wil staan van aanvaarding en vergifnis".

"Daardie filosofie van Lydia is vir my (Helena) die sleutel om vir jou te sê hoe jy skade kan benader, wat jy daarmee kan doen om dit op te stel as monument. Die kunstenaars Penny Siopis, Judith Mason en Willie Bester se beeldende kunswerke het ’n groot rol gespeel in dié opsig dat hul werk my oortuig het dat die konfrontasie met en optekening van trauma die kyker of leser terselfdertyd vrywaar. Geskiedenis moenie vermy of ontken word nie; dit moet erken en bely word.”

Helena het ’n swart notaboekie waarin sy dinge wat sy wil of moet onthou, aanteken. Daaruit lees sy vir Willemien Brümmer: “Hierso – die kunskenner Jennifer Law het gesê oor Penny Siopis se Sympathetic Magic-uitstalling: ‘Wit Suid-Afrikaners beleef ’n herkomspunt in Afrika as ’n wond wat alles wat volg, versmoor.'

“En dan het Freud gesê suksesvolle rou word materieel in die gedenkwaardige objek, die monument wat die voorval opneem, geabsorbeer. Dit kan die enkeling vrywaar en hom laat aanbeweeg.

“So as jy soos Koos Prinsloo die lelike ding in ’n ‘mooi’ storie opneem, en jy lees dit, dink jy miskien dit traumatiseer jou op daardie oomblik, want dis hoe die meeste mense my stories ervaar, maar eintlik kan jy sê: Dit wás so. Jy’t die erkenning in ’n storie, en jy kan dink: Sjoe, ons moenie dit weer doen nie. Só bied ’n verhaal tog verligting. Tot vandag toe is dit mense wat nie werklik bewus is van die wond wat ons gemeenskappe en ons land opgedoen het nie wat vir jou sê ons moet nou vorentoe gaan, ons moet die verlede begrawe. My standpunt is jy kan nie die wond van die verlede begrawe as jy nie kennis van hom het sodat jy hom kan verstaan nie. As jy dit nie konfronteer nie, dan, soos Freud gesê het, ly jy eintlik aan patologiese rou.”

Met die bekendstelling van Met koffer en kaart het Amanda Gouws, ’n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, met Helena oor die boek gesels. Die titel van Helena se boek is ’n verwysing na Joernaal van Jorik van DJ Opperman, waarin die kolonis Jorik met sy koffer en kaart in Afrika aankom.

“Op ’n ironiese wyse praat ek terug met Jorik,” het Helena aan Amanda Gouws gesê. Sy wil vir Jorik met haar verhale sê dat ons egter nou in die nuwe bestel ’n "nuwe koffer en kaart moet kry en ons weg in Afrika soek".

Die koffer kan ook heenwys na die "bagasie van die geskiedenis" wat Suid-Afrikaners met hulle saamdra. “Ek glo dat hoe meer jy jou met die geskiedenis bemoei, hoe makliker verstaan jy die hede,” het Helena gesê. Volgens Gouws kry Gunter dit in haar verhale reg om die verlede op ’n konkrete manier in die hede in te bring.

Gouws was aanvanklik verbaas dat Helena vir haar gevra het om in gesprek met haar te gaan oor die boek, aangesien sy nie ’n letterkundige is nie, maar nadat sy Met koffer en kaart gelees het, het sy ingesien hoe die persoonlike in Helena se verhale verpolitiseer word. Só skryf Gunter byvoorbeeld in die eerste verhaal in die bundel oor ’n vrou wat ’n aborsie ondergaan. Wanneer die “pa” vanaf die Grensoorlog terugkeer, is hy so vasgevang in sy eie verlies dat hy nie haar intense persoonlike verlies raaksien nie.

Vir Gouws sal veral mense wat in hulle 50's is en gedurende apartheid grootgeword het, aanklank vind by Helena se verhale. Dit is hierdie generasie wat probeer om die verlede te probeer uitpluis en sin te maak daarvan en van die oorgang na demokrasie. Hulle probeer ook om hulle staanplek in die "nuwe" Suid-Afrika te vind.

Daar is tien verhale in die bundel, en in die laaste vier is die hoofkarakter Mara, wat van dié generasie kom, sê Gouws. “Mara is so ’n bietjie rassisties en wil dit nie erken nie. Sy hanteer nie die nuwe Suid-Afrika so goed nie.” Haar "koffer en kaart", soos ook die res van haar generasie s’n, is dat hulle in ’n Eerstewêreldse en Westerse land grootgeword het en nog steeds is. “Na 1994 moes hulle besef dat hulle eintlik in ’n ontwikkelende land woon en dat hulle voorouers hulle in hierdie land wangedra het.”

Volgens Gouws spreek Gunter “tot die kollektiewe psige van die Afrikaner” en hoewel dit heel dikwels uit ’n manlike oogpunt gedoen is, bied Helena die vrou se belangrike perspektief en stem op hierdie kwessie.

Ook in die tweede afdeling van Met koffer en kaart is daar een sentrale hoofkarakter, naamlik Hanna. In hierdie afdeling, "Triptiek, ink op papier" wissel die verteller van die eerste persoon na die derde persoon. En hier, skryf Madri Victor op LitNet, kom Helena se bekwaamheid sterk na vore. Die drie verhale van hierdie middelste deel vorm saam ’n eenheid. Só ook die verhale in die derde afdeling wat rondom Mara draai. Vir Victor is "Mara se mooi storie" een van die treffendste verhale in die bundel.

Helena Gunter is vir Victor ’n meester van die kortverhaal. "Sy skryf nie 'mooi kontreistorietjies' nie, sy skram nie weg van die waarheid nie. Sonder om verontskuldigend te wees, sê sy: kyk hoe lyk dit nou, en dís waar dit vandaan kom. En sy doen dit knap, met humor, groot begrip en deernis. Met koffer en kaart is inderdaad ’n monument vir skade waarin die verlede en hede opgeneem word. Dit is ’n werk wat die leser uitdaag, maar uiteindelik ook ’n roete na aanvaarding en vergifnis suggereer."

In Rapport van 19 Maart 2011 skryf Marius Crous in sy resensie dat, na die probleme van skuldbesef en wit identiteit, een van die kwessies wat vir hom soos ’n draad deur Helena Gunter se werk loop, dié van die uitbeelding van manlikheid is. Dit kom trouens al voor in Op ’n plaas in Afrika, waar sy vrae vra oor die tradisionele beskouings van manlikheid, en in Met koffer en kaart gaan sy voort hiermee.

"Die mans word uitgebeeld as kwesbaar, emosioneel verwond en uitgelewer aan omstandighede waaroor hulle nie beheer het nie. Daar is die Willem-karakter, die eggenoot van die verteller; of die pa van die ongehude moeder se kind; die Pa-karakter en die mansfigure wat saam huil ná die dood van die jong branderplankryer.

"Laasgenoemde verhaal, 'Met afstandbeheer, 2010' is een van die roerendste verhale in die bundel met sy teenmekaarstel van die twee moederfigure. Skreiend is ook die besef waartoe Hanna moet kom dat haar seun 'langes gerook het, [en] buttons gekoop het'.

"Dit is weer tekenend van die gesplete aard van die wit mens se bestaan in Afrika – ’n problematiek wat Gunter op besonder boeiende wyse in haar tweede bundel probeer deurgrond."

In Volksblad (23 Maart 2011) sluit Stoffel Cilliers sy resensie so af: "Al is die styl toeganklik, lees die bundel liefs stadig en let op hoe fyn beplan die sinsbou is, hoe raak die woordkeuse, hoeveel beelding pleks van vertelling aangewend word. Ironie, humor en onderbeklemtoning word vaardig ingespan. Dit spreek vanself dat die skrywer as fyn waarnemer klein besonderhede betekenisvol binne konteks weergee.

"Dit is die soort aktuele boek wat die onderskeidende leser sonder veel oorreding ’n tweede keer sal lees, wetende dat ’n weer-lees méér pitkos, méér wetenswaardighede en méér literêre lekkerkry sal oplewer."

Willemien Brümmer (By, 19 Februarie 2011) merk op dat daar in baie van Helena se verhale gewys word op die "gapende wonde in die bruin gemeenskap". Helena was lugtig oor wat daar van hierdie tonele gedink gaan word, veral dat mense sal sê dat sy bruin mense as "sleg, dronk en lui" sou teken. Maar, sê sy aan Brümmer, “Wat ek eintlik probeer doen het, is om agtergeblewe mense as slagoffer op te stel, en ek wil spesifiek wat kolonialisme en apartheid gedoen het, uitbeeld. Ek wil die kloof uitlig wat tussen verskillende mense ontstaan het. Die stelsels is nou weg, maar die verskille tussen mense is nie weg nie, en dit is ’n verskriklike problematiek vir my.

“As daar dan ’n rassistiese onderrokkie by my werk uithang, dan vat ek die skuld en ek sê: Goed, ek is hierdie wit vrou van in die vyftig; as ek iewers rassisties was, baie jammer. Maar kom ons kry net hierdie ding oop, sodat ons kan praat oor die verskille tussen mense; hóékom daar verskille is; die skades aan mense.

“Ek glo in die ethics of silence; dat jy jou plek moet ken, dat jy moet stil wees, en jy kan nie beledigend of arrogant wees nie. Jy kan nie sê ’n mens is sleg, hy’s vuil, hy wil nie werk nie. Daar is ’n rede hoekom mense optree soos hulle optree; hoekom daar bendes en plaasmoorde is. Dis my kode dat ek ’n geskiedkundige verband moet lê in my fiksie, anders is dit nie vir my eties korrek nie.”

Sy dink dit is ook nie haar “plek” om die huidige bestel te kritiseer nie. “Ek glo in die ethics of silence wat die hede betref, soos van die Duitse skrywers ná die holocaust. Ek weet ’n mens kan nie apartheid met die holocaust vergelyk nie, maar die ooreenkomste wat daar wel is, maak dat ek nie kan kritiek lewer op wat nou korrup of verkeerd is as ek help skep het aan daardie kwaad nie."

Helena se volgende bundel, Tweespoor, verskyn in 2018 by Protea Boekhuis in Pretoria. Sy vertel aan AJ Gunter (Volksblad, 26 Junie 2018) dat Tweespoor al by die drukkers was toe sy Fransina, een van die karakters in haar boek, in Christi van der Westhuizen se Sitting pretty herken het.

"Fransina het beslis die kenmerke wat Van der Westhuizen met haar navorsing skets. Ons generasie is so trots op ons white liberal-skap, bely gereeld dat ons nie rassisties is nie, maar dit wat soms in onbedagte oomblikke uitpeul ...

"Die plaas-opset en die verlede is die verwysingsraamwerk wat ek gebruik wanneer ek skryf. Ek skryf nie oor die romantiese konnotasie wat ’n mens aan die plaas het nie. Hoewel dit ook bestaan, is dit nie wat ek belig nie."

Tweespoor het twee afdelings. In die eerste een word daar gefokus op Tilla, ’n Afrikaanse meisie uit ’n geslote gemeenskap op die platteland. Sy woon saam met haar gesin op ’n plaas, maar die gemeenskap noem hulle "inkommers". Sy word gekonfronteer met die attensies van ’n skoolmaat se pa, haar ma wat met niks tevrede is nie en spanning tussen haar ouers.

Fransina maak in die tweede afdeling haar opwagting. Fransina is wit en middeljarig wat glo sy is uitgelewer en besluit om te vertrek.

"Ek weet dat ek nie polities korrek skryf nie, dat daar lesers kan wees wat my werk as polariserend kan lees. Ek glo egter rassisme is ’n werklikheid en ’n groter probleem as wat ons wil erken," vertel sy aan AJ Opperman. "Daarom glo ek ook ’n fiktiewe bekentenis oor die rasseproblematiek van Suid-Afrika kan die kwessie uitlig. Dalk maak dit ’n wond oop wat gedurig met pleisters toegeplak word. Dalk hou Fransina ’n spieël op wat die leser sal konfronteer en lewer dit ’n klein bydrae sodat ons mettertyd minder ontploffings met rassistiese ondertone sal hê."

In By van 11 Augustus 2018 gesels Helena met Willemien Brümmer en antwoord sy op die vraag of "ons as wittes ons plek moet ken en ons durf kritiseer of moet ons ’n etiek van stilte handhaaf?"

"Dis ’n groot vraag. Die hele kwessie van verwonding en rassisme is moeilik. As jy aangeval word, het jy dan ook nie rede om vergeldend en woedend te wees nie? Maar dan gooi die geskiedenis my altyd terug na waar dit vandaan kom.

"Ek dink nou aan Max du Preez wat geskryf het dat swart mense nie werklik rassisties kan wees nie. Ek stem nie heeltemal saam nie, maar ek verstaan wat hy sê. Maar wanneer jy ’n slagoffer van geweld word, vra jy jouself af of jy nog steeds moet stilbly. Jy moet eintlik nog stilbly, want dit is hoe die geskiedenis hom uitspeel. Jy moet jou pyn en die verskriklikheid wat met jou gebeur het amper verstaan as verdienste – al is dit hóé verskriklik."

Op die omslag van Tweespoor is ’n afdruk van Paul Klee se "Angelus Novus", die engel van die geskiedenis. ’n Stuk bruinpapier wat lyk asof dit hom moes bedek, is gedeeltelik afgeskeur. In Rapport van 5 Augustus 2018 skryf Anna Kemp dat Walter Benjamin, Duitse filosoof van die 20ste eeu, in sy negende stelling oor die "filosofie van die geskiedenis" skryf dat hierdie engel terugkyk op die wrakstukke van die geskiedenis van die wêreld, en dat hy, anders as ons mense hier op aarde, nie ’n ketting van gebeure sien nie, maar ’n enkele groot katastrofe.

"Die omslag, tesame met die motto van Dan Sleigh ('Praat met die verlede, dáár sal jy leer'), bied die leser ’n stewige vastrapplek om mee te begin. Die geskiedenis wat hier ter sprake is, is die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die hede en die verlede, die twee spore van die titel.

Die tweede deel van die bundel vertel die storie van Fransina in vier verhale en hierdie verhale kan, volgens Kemp, elkeen as ’n model vir die kortverhaalgenre dien. "Die leser word teruggevoer na die milieu van die plaas en die platteland, maar van nostalgie en gemoedelike lokale realisme is daar geen sprake nie. Daarvoor is die snykante te skerp, die ironie te skreiend, die humor te wrang. Die klein wrakstukke van die geskiedenis begin reeds ophoop.

"In hierdie vier verhale, elk met ’n subtiel gekose titel, bewys Gunter herhaaldelik haar vermoë om met enkele hale – van kwas én ’n mes – komplekse karakters en fyn genuanseerde strukture te skets en bloot te lê. Deur dialoog en beskrywing (van karakters en die natuur met géén woord te veel nie) en trefsekere tempo-wisseling skep sy ’n wêreld van klein vreugdes en smarte. (...)

"Gunter slaag daarin om by die leser ’n soortgelyke ontroering te ontlok oor Tilla, die gevoelige en skerpsinnige kind, die 'sport', die 'karpatse klein dogtertjie' (p 13), en alles wat sy sien en beleef. Aan die einde van elk van hierdie verhale staan die ouer Tilla, die een wat op reis gegaan het, wat die spoor van haar geskiedenis gevolg het en terugkyk – soos die engel van die geskiedenis – na die vreugdes en verliese van haar kinderjare. (...)

"Soos oom Flip Kistoor (in "Man met tamaties") se vrugte net met sý handewerk, in hierdie stuk aarde, met hierdie wolke en water en son, en dalk ’n influistering van ’n god, so volmaak kon groei, só kry die leser die gevoel dat die verhale in hierdie bundel uniek is aan die uiters bedrewe (op elke vlak) skrywer, haar geskiedenis en haar híér en nóú.

"Of, op die gevaar af om te veel vergelykings te tref: Elke verhaal skitter op sigself, maar sáám vorm hulle ’n rigtinggewende sterrebeeld in ’n heelal waar die engel van die geskiedenis maar een groot katastrofe sien."

Vir Frederick Botha (Netwerk24, 23 Julie 2018) is die verhaal van Fransina, "Angelus Novus Africanus" die hoogtepunt van "hierdie knap en deurdagte bundel". Hy sluit af: "Gunter daag die leser met  Tweespoor uit om saam met haar naby die waters van die geheue te beweeg en herinneringe wakker te roer. Die rimpels van die verlede kring dalk net uit tot ’n beter verstaan van die hede."

Riette Rust (op LitNet) beskryf Tweespoor as toeganklik, maar iets wat ook die leser uitdaag. "Die karakters kom in hul volle glorie – voorkoms, ontnugtering, foute en al – voor jou te staan. Die hantering van die milieu begogel die sintuie: jy sien, ruik, beleef en voel saam met die karakters. (...) Gunter se skryfstyl is gestroop en sy wend die taal vernuftig en beeldryk aan.

"Tweespoor sluit aan by die skrywer se vorige twee bundels. Gunter se bedrieglike fluistering aan die een kant, en haar harde en duidelike stem aan die ander kant, verdien beslis ’n plek binne die literêre wêreld, Hier, en waarskynlik ook internasionaal."

Publikasies

Publikasie

Op ’n plaas in Afrika

Publikasiedatum

2007

ISBN

97780798148382 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met koffer en kaart

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152549 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tweespoor

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781485309291 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Helena Gunter beskikbaar op die internet

Artikels deur Helena Gunter beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Helena Gunter (1954–) appeared first on LitNet.

Elsa Joubert (1922–)

$
0
0

Gebore en getoë

Elsabé Antoinette Murray Joubert word op 19 Oktober 1922 in die Paarl in die Wes-Kaap gebore. Haar ma en pa stam albei van die Franse Hugenote af. Haar pa, WA Joubert, was hoof van die Onderwyskollege in die Paarl. Elsa gaan skool – vanaf sub A tot matriek – aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Sy behaal haar matriek in 1939.

In standerd drie gee Elsa haar eerste koerant uit en skryf sy gedigte in die “wonderlike Taal”. En so word die eerste saadjie geplant vir haar latere joernalistieke loopbaan. Net na die herdenking van die Groot Trek skryf sy ’n stukkie vir Die Burger oor “My grootste oomblik in die Ossewatrek” en slaan sy die tweede prys los.

Verdere studies en werk

In 1942 vertrek Elsa na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA-graad in 1942 behaal. In 1943 verwerf sy ook haar Sekondêre Onderwysdiploma aan die US. Sy gaan gee vir ’n jaar onderwys aan die Hoër Meisieskool Cradock in die Oos-Kaap voordat sy na die Universiteit van Kaapstad gaan vir haar Meestersgraad, wat sy in 1945 verwerf. Hier ontmoet sy Klaas Steytler, haar toekomstige man. Vanaf 1946 tot 1948 is sy vroueredakteur van Die Huisgenoot.

Maar die reisgogga pak vir Elsa en in 1948 reis sy vrou-alleen deur Afrika tot by die Nyl – iets wat in daardie dae amper ongehoord was. In 1957 word haar eerste reisverhaal, Water en woestyn, gepubliseer wat vertel van haar reis in Uganda en Egipte. Hieroor vertel sy aan Amanda Botha (Op OuLitNet): “Ek het baie hard daaraan gewerk. Daardie boekie wat verskyn het, was seker ’n derde van wat dit was. Ek was so begeesterd oor die vroeë geskiedenis van die hele Afrika en met die ontdekkingsreisigers. Ek het baie tyd in die African Biblioteek in Johannesburg deurgebring om op te lees. Die mense wat daar gewerk het, het alles geken en my baie gehelp. Ek het baie aangename ure daar deurgebring. Toe probeer ek dit alles in die boek sit, en die uitgewers was geïnteresseerd in my indrukke en my beskrywings … en ek moes van al daardie geskiedkundige agtergrond ontslae raak. Die Nasionale Boekhandel, [George] Minnaar was destyds daar, het nie kans gesien om dit uit te gee nie. Hulle het gesê dit is te swaarwigtig, te swaartrillend … en hulle het dit teruggestuur. ’n Joernalis wat geweet het dat ek die boek geskryf het, het gevra of hy die manuskrip kon sien. Hy stel toe voor dat dit ’n baie meer hanteerbare boek sal wees en ’n baie groter mark gaan hê as ek al die geskiedkundige agtergrondsinligting uitsny. Ek willig toe in. Ek was lus dat die boek nou gepubliseer word. Dit verskyn toe by Dagbreekpers in Johannesburg. Vir daardie tyd was dit toe heeltemal ’n treffer gewees, baie voorgeskryf in die Engelse skole. Die Engelse onderwysers het gesê hulle is so bly om iets in Afrikaans te hê wat nie die boere, droogte of ’n geworstel met die kwaad/goedheid is of die verhouding van die pa/seun behandel nie.”

Die boek verskyn in ’n bepaalde politieke klimaat, apartheid was geformuleer, dis kort voor Sharpeville en ander woelinge, en dit het toe al vir Elsa binne ’n Afrikaner-gemeenskap geëtiketteer.

In 1949 reis sy en Klaas met rugsakke deur Europa en bly Elsa vir amper twee jaar daar terwyl sy vir die Verenigde Volke in Genève en die Suid-Afrikaanse Ambassade in Lissabon werk. Gedurende hierdie tyd voer sy ’n onderhoud met die burgemeesteres van die verwoeste Berlyn en saai die BBC dit uit. Hiermee verdien sy ’n stewige £25.

In 1950 trou sy met Klaas Steytler en vestig die twee hulle in Johannesburg, waar hulle vir vyftien jaar woon en Elsa self vir sewe jaar verbonde is aan die redaksie van Die Transvaler. Daarna trek hulle saam met hulle drie kinders (Elsabé, Henriëtte en Nicolaas) Kaapstad toe, waar sy vandag nog woon. Klaas is in 1998 oorlede.

Elsa skryf aanvanklik reisverhale soos Water en woestyn (wat ook in Braille oorgesit is), Die verste reis (1959) oor Wes-Europa, en Suid van die wind (1962) oor Madagaskar. Sy reis baie graag en wil dit wat vir haar treffend was, met ander deel. In 1964 volg Die staf van Monomotapa oor Mosambiek en in 1968 Swerwer in die herfsland oor hulle toer na Oos-Europa. In 2002 bel oudpresident Nelson Mandela vir Elsa met verjaardagwense en vertel haar dat Die staf van Monomotapa vir hom ’n baken was, want dit was die eerste keer dat hy kennis neem van ’n Afrikaner “wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart-wit regering in Suid-Afrika”.

In 1974 verskyn Die nuwe Afrikaan waarin sy die gebied Angola dek, en wat vir haar ’n logiese voltooiing is van ’n reeks reise wat sy as jong meisie reeds in Afrika onderneem het. Sy win haar inligting vir hierdie boek in tydens ’n besoek van vyf weke aan Angola, wat sy per vliegtuig, motor, Jeep en trein deurkruis en waar sy op haar eie versoek met mense op alle vlakke skakel. Elsa se laaste reisverhaal is Die gordel van smarag (1997), wat sy skryf nadat sy en haar man op die spore van die digter C Louis Leipoldt na Sumatra en Djakarta in Indonesië is. Elsa erken in ’n radiopraatjie dat sy in haar jong dae “nogal verlief op Leipoldt was”.

Elsa se eerste roman, Ons wag op die kaptein, word in 1963 gepubliseer en is in Angola gesitueer. Die roman ontstaan nadat sy gedurende 1961 ’n beriggie in Die Transvaler lees van twaalf mense wat op ’n plaas in Angola deur ’n bende vermoor is en hoe die "verhoor" van hierdie mense drie keer uitgestel is terwyl die bende "gewag het op die kaptein" wat oor die rivier sou kom. Die insident gryp vir Elsa geweldig aan en die raamwerk van die verhaal neem rondom hierdie berig gestalte aan.

Die uiteinde van hierdie gebeure verneem ons nie in die roman nie; dit word oorgelaat aan die leser se verbeelding, gelei deur afskuwelike tonele wat die einde voorafgaan en die moontlikhede wat daaruit ontstaan.

In 1963 het Sarie Marais daaroor berig: “’n Merkwaardige verhaal oor die probleme van ons tyd. Maar dit sou veel meer word.

"In daardie slotparagraaf wat so ontwykend oor die karakters se uiteindelike lot is, het Joubert die essensie van ons vasteland se problematiek vasgevang, so roerend, so meesterlik en onderbeklemtoon dat dit vandag nog net so swaar dra aan betekenis: 'Die oë van die wagtendes word verblind deur die stof, sodat swart en wit, vasklouend aan die hek wat tussen hulle is, nie meer weet: hierdie hand is swart en hierdie een is wit nie'.”

Met hierdie roman ontvang Elsa ook haar eerste literêre prys, die Eugène Marais-prys in 1964 saam met Dolf van Niekerk. Die roman is in 1982 in Engels deur haar man vertaal onder die titel To die at sunset. Ons wag op die kaptein is later ook in ’n toneelstuk verwerk.

Afrika is dié een groot inspirasie in Elsa se werke – nie net vir haar reisverhale nie, maar ook vir haar romans. Haar romans weerspieël die konfliksituasies in die geskiedenis van die kontinent. Na Ons wag op die kaptein verskyn Die Wahlerbrug (1969) en Bonga (1971). Vir Bonga ontvang sy die CNA-prys vir 1972 saam met PG du Plessis. Tydens Elsa se aanvaardingstoespraak by die ontvangs van die CNA-prys in 1979 pleit sy dat die Minister van Binnelandse Sake die groot aantal verbode werke deur swart skrywers van die vyftiger- en sestigerjare in heroorweging moet neem: "Veel van die politiek en protes in daardie werke is vandag – byna twintig jaar ná Sharpeville – hoewel nie irrelevant nie, reeds geskiedenis.”

En toe, in 1978, verskyn Die swerfjare van Poppie Nongena. Hierdie roman, wat ’n verhaal bevat wat aan Elsa persoonlik oorvertel is, het ’n ingrypende invloed op die Suid-Afrikaanse gemeenskap gehad wat al vergelyk is met die impak van Multatuli se Max Havelaar in Nederland. Poppie, wat handel oor die swaarkry van swart mense onder die destydse politieke bedeling in Suid-Afrika, ontvang drie toekennings in Suid-Afrika: die CNA-prys in 1978 en die WA Hofmeyr- en Louis Luyt-pryse in 1979.

In 1980 ontvang Elsa die Winifred Holtby-prys van die British Royal Society of Literature vir die beste streekroman in Engels vir die vertaling van Poppie in Engels, The long journey of Poppie Nongena. Elsa het die boek self in Engels vertaal. Sy word ook vereer met ’n Fellowship van die British Royal Society of Literature. Sy erken dat sy probleme ondervind het met die vertaling as gevolg van Poppie se taal wat ’n mengsel van Kaapsafrikaans en die Engels van die townships is. Elsa het die helfte van die outeursaandeel uit die verkope van Poppie aan die vrou by wie sy die storie gehoor het, gegee, waarmee die vrou vir haar ’n huis in die Transkei gekoop en vir haar twee kinders ’n opvoeding gegee het.

In 2005 word Elsa deur die Departement van Kuns en Kultuur vereer deurdat Poppie aangewys word as die beste prosawerk in Afrikaans. Dit haal ook die lys van die beste 100 boeke van die vorige eeu in Afrika. Oor hierdie eer gesels Elsa as volg: “As ek terugkyk, was dit nie sommer ’n ‘flash in the pan’ nie … dat Poppie daar was nie. Dit was my hele werksingesteldheid wat daarop gerig was. Soos Elize Botha een keer oor my gepraat het, het sy gesê dat ek Afrikaners bewus gemaak het dat daar iets anderkant die Limpopo is. Dit was in die sewentigerjare. Toe was dit nog baie onbekend.

“Dit het vir my baie beteken, want dit was waarna ek eintlik onbewus na gestrewe het, om ander bewus te maak van die res van Afrika. Dit was vir my belangrik dat ons mense die boeke van Afrika moes lees. Daar is geen toekoms as ons nie ander mense ken nie. Om ander te sien soos hul hulself sien, dis belangrik. Sedert die sewentigerjare het ek dit op myself geneem om die Afrika-skrywers en -boeke hier bekend te stel. Ek het daaroor gepraat en ook gereeld in die koerante artikels daaroor geskryf. Ek wou veral Afrikaners in kontak bring met skrywers soos Chima Achebe, Wole Soyinka, Ngugi en ander. Dit was vir my so opwindend toe die lys boeke bekendgemaak word en dat ek so baie van die skrywers geken het en hul werk gelees het. Poppie is saam met Eugène Marais se Siel van die Mier (1934) die enigste Afrikaanse boeke op die lys. Met die erkenning van Afrika-tale op die lys en Afrikaans, naas Arabies, die eerste wat genoem word, het ek my meer as ooit gevoel dat ek nou hier – onder die skrywers van ons kontinent – tuisgekom het. Vir my is dit ’n stuk bevryding. Ek voel tuis in hierdie geselskap, veel meer so as toe ek byvoorbeeld deur die Royal Society of Literature in Londen erken is. Toe was ek ’n koloniale ‘peripheral writer’. Hier is ek nou in die hart van Afrika!”

Poppie word in veertien tale vertaal, onder meer in Frans, Duits, Nederlands, Hebreeus en Spaans. Saam met Sandra Kotzé verwerk Elsa die roman in ’n verhoogstuk en word dit ook in Engels vertaal. Tussen 1982 en 1984 is dit in talle lande op die planke gebring – by Off-Broadway, New York, die Edinburgh-fees, in Londen en San Francisco, Kanada en Australië. Dit verower die Olivier Award vir toneelspel in Londen se West End, asook die Obi Award vir die beste draaiboek in die Off-Broadway Theatre in New York. In Suid-Afrika is dit deur talle toneelgeselskappe in Afrikaans en Engels in al die groot stede opgevoer.

Elsa is saam met Klaas ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde en vanaf 1984 tot 1985 is sy ook voorsitter. Hulle aanvanklike motivering was antisensuur, maar later jare het hulle saam met ander lede van die Gilde Afrikaanse boeke en tydskrifte aan skole voorsien.

In 1985 is Elsa en Klaas na Suid-Amerika na die elfde Internasionale Boekeskou in Buenos Aires. Dit val saam met die publikasie van die Spaanse vertaling van Poppie, wat ook een van agt boeke was wat spesiale vermelding gekry het. Daarna lê hulle besoek af aan die “Boerenasate” in Argentinië en kry hierdie besoek beslag in die novelle Pampas, een van twee novelles wat in 2002 verskyn onder die titel Twee vroue. Tydens hulle besoek aan Buenos Aires bring hulle ook besoek aan die Argentynse skrywer Jorge Luis Borges. Op ’n vraag van Klaas sê hy dat hy altyd die begin en die einde van ’n verhaal het en dan net die middel invul. Sy self het nooit die einde nie: “As jy styf opgewen is, as jy in die regte sleutel is, moet jy dinge laat gaan. As jou probleemstelling sterk genoeg is, moet jy die einde van die verhaal, wat vanself kom, aanvaar.” (Die Burger, 19 Oktober 2002)

Ook een kinderboek verskyn uit Elsa se pen en op haar vier-en-sestigste verjaardag word ’n eksemplaar van Die vier vriende en ander stories uit Afrika aan elk van haar kleinkinders, Christiaan (5) en Elsa (3) Brink, oorhandig. Hulle was die inspirasie vir die opteken van die fabels wat sy teengekom het in haar navorsing oor Afrika en uit ou reisbeskrywings opgediep het.

In 1988 verskyn Missionaris, wat aan Elsa haar tweede WA Hofmeyr-prys besorg. “Missionaris was ná Poppie en ek was baie uitgeput. Soveel het gebeur: die Amerikaanse en Engelse uitgawes, die toneelstuk hier en op Broadway, in Edinburgh, Londen, Australië, Kanada … Ek het genoeg van daardie politieke situasie gehad. Ek het gedink ek gaan ’n veilige ding probeer. Ek wou aan die werk bly en het gedink om oor ds Van der Lingen van die Paarl ’n boek te maak. My oupa het hom geken – my oupa was ’n kind toe hy daar predikant was. Ek kry toe ’n boek oor daardie ds Van der Lingen in die SA Biblioteek. Daar was al oor sy lewe geskryf, maar daar was net ’n paragraaf oor sy pa, Antonie van der Lingen. Hy staan toe in my belangstellingsveld. Ek dink dit was ’n reisiger wat hom teengekom het daar in die verre Noordweste by die groot rivier. Hierdie rooigebrande, verlate Hollandertjie, wat nie weet watter kant toe nie, wou die Woord bedien aan die Griekwas. Dit was vir my in ’n neutedoppie die hele probleem – die Westerling in Afrika. Dit was vir my ’n fassinerende tema.”

Sy begin Missionaris skryf om weg te kom van die destydse Suid-Afrikaanse politieke problematiek. Maar die ironie is dat hoe langer sy met Van der Lingen besig was, hoe meer het hy haar teruggelei na die hede. Want hy, soos sy, het gesoek om te verstaan. Elsa voel dat haar boeke deel is van die verkenning van die onsienlike. “Daar is altyd ’n soektog deur die vreemde nader aan wat essensie is,” vertel sy vir Amanda Botha in Rapport, 20 Oktober 2002. “Die doel om die vreemdheid af te breek, kom van vroeg af. ... Iets in my wou – en wil steeds – die onsiende versperrings afbreek.” Hierdie behoefte om die versperrings af te breek, kom dalk die sterkste uit in Missionaris. “Dit kom die naaste by wat ek wou sê.”

In 1990 begin die beplanning wat sou lei na Die reise van Isobelle wat in 1995 verskyn en waarmee Elsa die grote – die Hertzogprys vir prosa – in 1998 verwerf. Die reise van Isobelle is in wese ’n reisverhaal van ’n familie deur ’n eeu. “Isobelle se oorsprong is baie eenvoudig. As dit nie reg gelê het om geskryf te word nie, sou ek dit nie geskryf het nie. Toe ek (in 1981) in Londen was, het Margaret Body van die uitgewer Hodder & Stoughton vir my en Klaas vir middagete geneem. Sy was baie opgewonde oor Poppie en sy sê toe dat ek die lewe van ’n swart vrou oor drie geslagte – dis haar ma en haar ouma en haar kinders in Suid-Afrika – uitgebeeld het, maar waar kom die wit mens van Suid-Afrika uit? Toe sê ek: ‘Ek belowe jou ek sal nog die epiese roman oor ’n wit familie in Suid-Afrika skrywe … daardie selfde goed in Poppie van ’n ander hoek deurgaan.’”

Baie van wat Elsa geskryf het oor die jong meisie, Agnes, se ervaringe in Afrika in Isobelle het sy self ervaar toe sy as 26-jarige alleen in Afrika gereis het en weergegee het in Water en woestyn.

Met hierdie verhaal het Elsa die storie gehad en haar navorsing was net om haar te vergewis van sekere feite. Die roman is drie keer oorgeskryf en vir Elsa is dit die hoogtepunt van haar skrywersloopbaan. Gewoonlik skryf sy slegs soggens, maar met Isobelle is haar middae ook in beslag geneem. Haar gunsteling-karakter, Belle, kom uit Die reise van Isobelle (Rapport, 20 Oktober 2002): “Die karakter wat my die naaste aan die hart lê, is miskien Belle, wat deur apartheid ondergaan. Die punt hier is nie dat sy ’n man in ’n kortstondige liefdesverhouding verloor het nie, maar dat sy haar plek in haar volk verloor het. Sy is van haar inlewing in haar volk beroof net soos sy van haar kêrel beroof was. Toe sien sy alles duidelik – die enormiteit van wat aangaan in haar land.” Isobelle word in Engels en Duits vertaal. In 1996 word die WA Hofmeyr-prys vir die derde maal aan Elsa toegeken – hierdie keer vir Die reise van Isobelle. Isobelle is in 2011 herdruk.

Elsa se eerste twee reisverhale is vir skole voorgeskryf – vir nie-Afrikaanssprekende kinders. Dit was weg van die droogte, die plaasstories en plattelandse karakters, is vir haar verduidelik. Die staf van Monomotapa (1964) is egter afgekeur oor die prentjie van die swart en wit dogtertjies, maar daar was later ’n nadraai aan die storie. Elsa vertel aan Amanda Botha: “Die dag nadat ek uit die hospitaal gekom het (Oktober 2002 na ’n heupvervangingsoperasie), het Nelson Mandela my gebel. Hy sê hy het in ’n Kaapse koerant gelees dat ek die val gehad het en dat hy my beterskap wil toewens. Hy wil net vir my sê: ‘Jy is nie alleen daar nie. Ons is almal by jou.’ Dit was vir my merkwaardig. Hy wens my geluk dat Poppie op die 100 boeke (100 Afrika-boeke van die eeu) was. Ons het nog ’n rukkie baie lekker gesels en hy sê toe dat hy baie van my werk hou. Hy het my boeke in die tronk op Robbeneiland gelees. Ek was nie ’n verbode skrywer nie en hy kon dit dus lees. Madiba sê toe hoe baie Die staf van Monomotapa vir hom beteken het. Daarin het hy vir die eerste keer van ’n wit Afrikaner-vrou of -man gelees wat die moontlikheid in die oë staar van ’n gedeelde swart/wit regering in Suid-Afrika. Hy sê toe spesifiek dat hy so ontroer was deur die foto van die klein swart en die wit meisietjie saam. Hy vertel dat toe hy sy vrou, Graça Machel, ontmoet het, het hy niks van haar land (Mosambiek) geweet nie, behalwe uit wat hy uit Monomotapa gelees het. Is dit nie ’n mooi storie nie … dat op hierdie ouderdom daardie ding nou vir my terugkom? En in ’n tyd toe ons ook baie geslote was. Al my ander reisboeke is een of ander tyd voorgeskryf. Maar daardie een het die uitgewer vir my spesifiek gesê dat die voorskryfmark het dit geweier omdat daar die prentjie was van die swart en wit kinders saam op die skoolbanke.”

Tydens die KKNK van 1996 word Elsa saam met André Brink vereer met die Afrikaans Onbeperk-toekenning. In die commendatio word gesê: “Haar grootste bydrae tot die kweek van goeie buurskap in ons deel van Afrika is Die swerfjare van Poppie Nongena. Dis ’n roman, dus per definisie fiksie, maar dit is net so sorgvuldig nagevors as haar reisverhale. Die leser kan hom nie in die aangesig van die onthutsende gegewens daaraan troos dat hy met fiksie te make het nie. Daar is waarskynlik geen ander boek wat so onweerlegbaar ’n mens-onterende sisteem blootlê asPoppie nie. ... Dat die verhaal hoofsaaklik deur die Afrikaanse Poppie vertel word, het die Afrikaanse literatuur en die Afrikaanse taal onmeetlik verruim en verryk.” (Die Burger, 23 Maart 1996)

In 2001 word Elsa deur haar alma mater (Universiteit van Stellenbosch) vereer met die toekenning van ’n eredoktorsgraad in die letterkunde vir haar uitsonderlike bydrae op die gebied van die Afrikaanse letterkunde en vir die ingrypende invloed van haar werk op die samelewing. Die Universiteit van Pretoria vereer haar op dergelike wyse in 2007.

Die Afrikaanse Skrywersvereniging ken in 2001 die Patrick Petersen-gedenkprys aan Elsa toe. Hierdie prys verleen erkenning aan uitsonderlike bydraes tot die Afrikaanse letterkunde en gedenk die nagedagtenis van die digter Patrick Petersen wat in 1998 oorlede is. In 2003 ontvang sy die ATKV Prestige-prys vir haar volgehoue bydrae tot die Afrikaanse kultuur. Die Staatspresident vereer haar in 2004 met die Orde van Ikhamanga (silwer) vir haar letterkundige bydrae en haar vroeë betrokkenheid as skrywer met die Afrika-problematiek, asook vir haar bydrae tot die ontwikkeling van die joernalistiek in Suid-Afrika.

In 2005 ken die klub van studenteraadsvoorsitters aan die Universiteit van Stellenbosch hulle erepenning aan Elsa Joubert toe.

Tydens 2012 se Woordfees op Stellenbosch is Elsa aangewys as die Woordkunstenaar van 2010 se Woordfees vir Reisiger. In 2011 se Suidoosterfees in Kaapstad het sy saam met Hennie Aucamp en Abraham H de Vries opgetree in ’n program Drie legendes. Haar kortverhaal “Die sendeling se dood” is vir die verhoog verwerk en is tydens die Suidoosterfees en die Woordfees van 2011 op die planke gebring. Dit is saam met Hennie Aucamp se verhaal “When the saints go marching in” opgevoer.

Albei verhale is gedurende die apartheidsjare as “gewaagd” en “plofbaar” beskou, omdat dit raskwessies aanraak. Alhoewel nóg Joubert nóg Aucamp verhale met ’n beplande morele of etiese doel geskryf het, was dit onmoontlik om gedurende daardie jare onaangeraak te bly deur die omstandighede waarin hulle geleef het.

“Selfs al het ek oor ’n skoenlapper geskryf, sou dit ’n skoenlapper met wit en swart kolle gewees het, wat onseker is oor die tuin waarin hy hoort,” het Joubert gesê.

“Die dood van die sendeling” vertel die verhaal van ’n sendeling se weduwee wat graag wil hê dat sy bruin sendinggemeente die begrafnis in die moederkerk moet bywoon, maar die wit kerkraadslede is nie daarvoor te vinde nie. Wanneer sy dan besluit om die sendeling in die sendingkerk te laat begrawe, wil die bruin gemeentelede ook nie ’n blok aan die wit mense van die moederkerk afstaan nie.

In die verwerking van hierdie verhaal vir die verhoog het Lida Botha die rol van die sendeling se weduwee vertolk. Zane Meas, Denise Newman en Stian Bam was ook in die toneelstuk, getiteld Sendeling, te sien. Die VGK-koor van Eersterivier-Suid se sang het oor die verhoog opgesweef en die twee predikers in die toneelstuk het Bybeltekste in dramatiese beligting voorgedra.

Joubert se kortverhaal het die eerste keer in 1973 in Die Huisgenoot verskyn, maar dit was ’n stryd om dit gepubliseer te kry. “Mense het gedink dit is te plofbaar en hulle wou dit onderdruk.” Hennie Aucamp het egter gehelp met die kanonisering van dié verhaal, want hy het dit op ’n radioprogram waarvan hy die aanbieder was, gespeel en dit ook in die bundel getiteld Bolder uitgegee. “Dit was in die eerste plek ‘n baie goeie verhaal,” het Aucamp by die bespreking gesê.

kykNET-Fiëstas het Elsa in 2012 met ’n goue beeldjie vereer vir haar lewenslange bydrae tot die woordkuns. Sy was ook een van die vroue op wie die fokus geval het in kykNET se reeks van 13 episodes getiteld Formidabele vroue. Daarin het die fokus geval op vroue wat ’n verskil gemaak het in Suid-Afrika.

In 2005 verskyn die eerste deel van Elsa Joubert se jeugherinnerings onder die titel ’n Wonderlike geweld by Tafelberg.

In die tydskrif Kakkerlak skryf die resensent dat ’n Wonderlike geweld in essens ’n "karakterroman" is wat die vormingsjare van een van Afrikaans en Suid-Afrika se bekendste skrywers aan haar lesers bekendstel.

"Elsa Joubert groei op in ’n geborge omgewing, maar verlang terselfdertyd na ’n meer uitdagende lewe waarin sy haar kreatiewe talent tot uiting kan bring. Haar ouers speel hierin ’n kardinale rol: haar komplekse ma wat haar lewe probeer beheer, maar vir wie sy tog mettertyd begrip ontwikkel namate sy besef watter invloed die sterfte van ’n sussie gehad het en haar simpatieke en ondersteunende pa van wie sy soms skerp verskil. Boeiend is ook ’n verhouding waarin godsdiens, musiek, weemoed en erotiek saamsmelt in die verwarde gemoed van die jong meisie – dié met haar vioolonderwyser Herr Metzler.

"Die outobiografiese vertelling oorskou Joubert se Bolandse kinderjare, haar studie aan die Universiteit van Stellenbosch, haar ervaring as onderwyseres op Cradock, haar nagraadse studie aan die Universiteit van Kaapstad en haar werk as joernalis by Die Huisgenoot. Totdat sy op 8 Maart 1948 as vyf en twintigjarige op die dek van ’n skip – die diep, donker water onrustig onder die kiel – staan, in afwagting op ’n alleenreis deur Afrika.

"Dit is ’n verhaal wat met verstommende detail ’n bepaalde era in die land se geskiedenis uitbeeld, en daarby ook die wording van ’n skrywer. Met opwinding ontdek Elsa Joubert haar verbondenheid aan haar volk, maar ook die dwalinge van Afrikandernasionalisme. Die blywende beeld is dié van ’n vrou wat as kind reeds die drang na woorde ervaar, wat te midde van uiteenlopende invloede in die onstuimige tyd na die Tweede Wêreldoorlog haar onafhanklike stem as skrywer vind."

In Rapport van 4 Desember 2005 het André P Brink ’n Wonderlike geweld beskryf as ’n "vervelige, selfkoesterende en swakgeskrewe relaas wat liefs moes begin het waar die huidige narratief eindig: Elsa Joubert, in haar middel twintigs, op pad om op haar eie deur Afrika en na Europa te reis."

Maar op OuLitNet verskil Desmond Painter baie van Brink. Vir Painter lê dit die "emosionele geografie van ’n Afrikaanse leefwêreld in die 1930's en 1940's" bloot – die tydperk van "nasionalistiese uitbundigheid en konsolidering".

"Die derdepersoon-perspektief waarin die boek geskryf is, word by tye afgewissel met dagboekinskrywings, wat tot die onmiddellikheid en emosionele intensiteit van die vertelling bydra. Soos JM Coetzee se Boyhood en Youth oortuig Joubert se boek eweseer as 'n roman, maar as 'n blik op 'n stuk kultuurgeskiedenis is Joubert dalk selfs meer oortuigend as Coetzee – dalk net omdat sy meer deelnemend en intens betrokke is by die wêreld wat sy beskryf, en minder kil en afsydig daarteenoor staan. (...)

"Brink se 'who cares'-houding oor wat hier opgeteken is, berus op sy oordeel dat Joubert nie universeel genoeg omgaan met haar gegewens nie, dat sy vasgevang bly in die persoonlike en die partikuliere. Dit is egter juis die onherhaalbare, vinnig vervagende, maar steeds – selfs vir ’n veel jonger leser soos ek – bekende werklikheid wat hier beskryf word wat hierdie boek so ’n besonderse leeservaring maak. Wat Joubert regkry, is om ’n geskiedenis wat ’n mens van buite ken, meermale al opgeteken in boeke soos Hermann Giliomee se Die Afrikaners en etlike van JC Kannemeyer se skrywersbiografieë, van binne te belig. En dit doen sy uitstekend. Die gewoontes, praktyke, ritmes en teksture van ’n gewone Afrikaanse lewe in die 1930's en 1940's word tasbaar, en die leser word asemloos deel van die emosionele opwellinge, vergesigte en irrasionaliteite van die era. (...)

"Eerder as dat haar verhaal nie 'universeel genoeg' is nie, bied dit die leser juis ’n insig in hoe een lewe, en haar unieke ervarings van grootword, gesinslewe, seksuele ontwaking, en dies meer, vervleg is met die veruniverselende, betekenisgewende narratiewe van 'n bepaalde tyd. (...)

"Joubert gee mens inderdaad ’n dieper begrip van die alledaagsheid waarbinne Afrikanernasionalisme en ’n bepaalde stel begrippe oor Afrikaans en Afrikaans-wees tot stand gekom het en genormaliseer is. Haar jonger self, ’n sensitiewe, emosionele en soms driftige jong kind en vrou, word die perfekte instrument vir Joubert om die verskuiwings, groot sowel as subtiel, in die Afrikaanse wêreld van haar tyd mee te registreer.

"Maar dit is nie net ’n verhaal van politieke ontwaking nie. Joubert skryf ook met groot sensitiwiteit oor die bietjie vreugdes en baie bemoeienisse van adolessensie; en soos ’n mens kan verwag, ontmoet die leser ook vele skrywers: haar latere man, Klaas Steytler, Leipoldt, Rykie van Reenen, Jan Rabie, en (my gunsteling-ontmoeting in die boek) ’n jong Etienne Leroux ... Ek wil nie sy manewales hier verklap nie, dus sal ek maar net sê dis regtig hoog tyd dat ons ’n biografie van Leroux te lees kry!

"’n Wonderlike geweld is ’n boek wat ryk is aan atmosfeer en teksture, wat die leser betrek by intieme en soms intense detail. Vir hierdie leser het die boek ’n amper hipnotiese kwaliteit gehad. Miskien omdat ’n mens weet waaraan hierdie dikwels onskuldige, onwetende alledaagsheid ook geboorte sou gee."

Die tweede deel van Elsa se outobiografiese herinneringe, Reisiger, word in 2009 deur Tafelberg gepubliseer. In hierdie “outobiografiese bestekopname kry mens ’n binneblik op die wyse waarop die letsels van apartheid ons landskap versteur het tot dit wat ons vandag steeds aanskou,” skryf Melt Myburgh op LitNet.

In Reisiger word die besonderse band tussen Elsa en haar moeder onder die soeklig geplaas. Haar ma het 97 jaar oud geword het en haar verstand was tot die einde helder. In 1979 het sy op 88-jarige ouderdom meegehelp om Poppie in Engels te vertaal, vertel Elsa. Sy het ook op gevorderde leeftyd die belastingkantoor in die Paarl gaan wys op foute wat in haar opgawe gemaak is. Elsa self was nog nooit bang vir die ouderdom nie, alhoewel sy na twee heupvervangings bietjie sukkel. “Die liggaam is soos ’n ou kar. Maar binne jou kop het jy toegang tot dieselfde avonture van ouds, ten spyte van die liggaam se beperkinge.”

Met die skryf van Reisiger het sy opnuut onder die indruk gekom van hoe alles wat oor haar lewenspad gekom het, sinvol met mekaar verband hou: die reis langs die Nyl, na Madagaskar se sterwende woud, na die Portugese gebiede soos Mosambiek en Angola – elke onderneming het beslag gegee aan ’n volgende projek.

En deurentyd is sy gedryf deur die wil om feite na óns mense te bring. “Wit mense het nie besef daar moet rekening gehou word met die groot land ten noorde van ons nie. Ons mense se oë was tóé! In Tsumeb, met die Portugese vlugtelinge wat oor die grens gestroom het, het ek besef ek móét skryf oor my eie land.

“Ek was dedicated om die feite vir ons mense te bring. Wat is die woord vir dedicated nou weer?” Sy is nie tevrede met toegewyd nie en die begrip waarna sy soek, is eerder nader aan opdrag.

Die blootstelling aan die mense van Afrika en in Europa tydens die jong Elsa Joubert se vele reise het haar destyds laat besef hoe geslote die Suid-Afrikaanse samelewing was: “Ons was net vreeslik apárt! In ons land was die uitdagings feller, omdat ‘Apartheid te wetboek gestel’ was en mense onwillig was om verby die ‘colour bar’ te dink.”

Elsa se voorsate was Franse Hugenote en sy was te preuts om oor die tou te trap. Mens moet ook nie die Engelse Victoriaanse invloed onderskat nie – dis op dié manier dat die “colour bar” in die vesel van die Suid-Afrikaanse samelewing ingeweef is. Gelukkig het tye ingrypend verander. Die verhouding met Mahmoed waaroor sy so openhartig in Reisiger vertel, sou pre-1994 groot opspraak verwek het, terwyl daar nou geen haan na kraai nie.

Elsa se motivering met die skryf van hierdie twee outobiografiese vertellinge was ’n “diep begeerte om die lewe van ’n gewone wit vrou in die tweede helfte van die 20ste eeu op skrif te stel, binne die sosiale strukture van destyds. Nie ’n geskiedenis van dié era nie, net die geleefde ervaring van een mens. Laat dit dan my protes wees," vertel sy verder aan Melt Myburgh.

“Een spesifieke vryheid het die outobiograaf: hy kan speel met tyd. Vooruitkyk was vir my taboe. Maar jy kan tyd vries en in minuskule detail ’n oomblik ondersoek, dan weer met ’n sprong vorentoe gaan.

“My doel was om die leser, as hy eers aan die lees is, saam met my te laat voortbeweeg. Niks verder gaan nie as wat ek beweeg. ’n Versoeking was byvoorbeeld om direk ná die Verwoerd-skietery verder te vertel dat hy ses jaar later in die Volksraad deur Tsafendas doodgesteek is. Ek kon dit nie doen nie. Ek sou daarmee die hele werklikheidsillusie van die oomblik deur dié stukkie agternawysheid heeltemal vernietig. Ek wou niks vooruitloop nie.”

Oor Reisiger skryf Naòmi Morgan (Volksblad, 10 Januarie 2010): "Dit is in die eerste plek ’n skrywersoutobiografie en die goue draad wat daardeur loop, is die stryd met woorde, die soeke na ’n eie stem en styl, ’n aktiwiteit wat eindelik die aftree-oord waarheen sy verhuis ná Steytler se dood, weer ’n bekende werk- en skeppingsplek maak en weer sin aan haar lewe gee. Die leser is verstom oor die besonderhede wat Joubert nog kan onthou, en haar vermoë om weer die stem te vind van die jong vrou wat ’n byna mistieke verhouding met Mahmoed, ’n tuberkulose-lyer, gehad het. Haar kennismaking met hom is ook die begin van haar lewenslange soeke na identiteit op die Afrika-kontinent – Mahmoed is, soos sy, nie oorspronklik van Afrika nie, en tog is dit hy wat die Afrika-bos vir haar ontsluit en magies maak deur sy pragtige verhale.

"Joubert se liefdesverhouding met Afrika is ’n ander tema van haar oeuvre, die onderwerp van verskeie van haar romans en die bron van haar politieke oortuigings. Die kroon op dié Afrika-gerigte oeuvre was die insluiting van Die swerfjare van Poppie Nongena as een van die 100 beste boeke deur 20ste-eeuse Afrika-skrywers, en indirek die erkenning van Afrikaans as een van die tale van die kontinent.

"Taal is die skrywer se kosbaarste instrument, daarom is hierdie outobiografie ook ’n liefdesverklaring aan Afrikaans. Ander skrywers (soos Jaap Steyn in Hoeke boerseuns ons was) het ook al taal genoem as die hoofrede vir hul terugkeer na Suid-Afrika: 'Waarom gaan ek terug? Omrede my taal, wat my medium is, omrede my gehegtheid aan die stuk aarde waarop ek gebore is, en, voel ek, omrede ’n gevoel van betrokkenheid, selfs verantwoordelikheid teenoor hierdie stukkie aarde' (bl 60). Skryf is ’n manier van lewe, van insig verkry oor jouself: 'Want die skrywer skryf eintlik vir homself, om oor vrae wat hom pla, waarvoor hy sterk omgee, te probeer helderheid kry' (487). Dit is gepas dat Joubert se Afrika-ingestelde lewe die kringloop voltooi het: vanaf die ontdekking van die Afrika-bos op haar eerste reis die 'donker' kontinent in, tot die hoë bome wat voor haar venster in die aftree-oord groei en wat sy uit verskillende hoeke kan sien danksy spieëls wat haar ’n blik gee op die raaisel wat sy van boek tot boek eerlik en onverskrokke probeer oplos het."

Naas Poppie is Missionaris die roman wat haar die naaste aan die hart lê, al het sy voorbehoude daaroor: “Dis te lank, die gebruik van die Nederlandse aanhalings sou ek vandag anders aangepak het.” Sy het in 2009 aan die Engelse vertaling van die boek gewerk, wat beslis meer vaartbelyn sou wees.

Miskien is die tegnologie wat so vinnig ontwikkel en hierdie wêreld in ’n globale voorstad omskep, die antwoord vir ons vrese oor die taal. “Al die verbindings is so maklik. Niks is meer afgeslote nie.” Die kleinkinders bombardeer haar juis oor die moontlikhede wat Facebook bied.

Die rekenaar waarop sy nou werk, is die derde of vierde in haar besit. “Ek het in die dae toe daar nog nie eens ’n muis was nie, al gewerk op ’n rekenaar.” Sy gebruik hom nou wél net as ‘n “glorified tikmasjien”, maar die uitgewer Riana Barnard kom gereeld met “so ’n dingetjie wat lyk soos ’n sigaar” om manuskripte af te laai.

“Voor die oorgang in 1994 kon ons nog grappe vertel oor ons verskille; nou probeer almal dinge regmaak om korrek voor te kom.”

Sy is bekommerd oor so baie mense se stilswye oor kwessies soos misdaad en plaasmoorde. Mense probeer dit vergeet; wil dit nie beleef nie ... Om oor plaasmoorde te praat is soos om ’n faux pas in ’n geselskap te maak. Mense vermy die onderwerp, want hulle is te bang om dit in die oë te kyk.

“Ek was ontsteld oor die joernalis Chris Louw se selfmoord. Dit het my so geruk. Dis so ’n drastiese ding om te doen. Dis ’n baie simboliese ding met die AK47; alles is nie pais en vrede nie. Dit was so ’n desperate, significant daad. Vir wat was hy gatvol?”

Toe Elsa in Oktober 2012 negentig jaar oud geword het, het haar seun Nico (Volksblad, 17 Oktober 2012) onder andere geskryf: “Sy was in ’n ander wêreld (as die Sestigers), in ’n gesinshuis in Johannesburg waar haar skryfwerk sy plek moes vind in die ruimte van kinders grootmaak. Maar af en toe het die boheemse lewe van skrywervriende teen haar voorstedelike bestaan geskuur. In haar boek Reisiger bespeur ’n mens tog ’n verlange by haar as Jan en Marjorie met hul afdak-karretjie in Johannesburg by ons huis opdaag en hul vryheid ten toon stel.

“Dat sy wel die vryheid gesoek het, blyk uit haar reis na Madagaskar in die jare sestig. Pa hou huis terwyl sy die onbekende verken. Die tweespalt tussen gesin en vryheid kom ná baie jare weer na vore. My dogter verower as sestienjarige ’n plek om in ’n afgesonderde deel van Thailand in ’n dorpie ontwikkelingswerk te gaan doen. Sy kon nie wag om die nuus met haar avontuurlike ouma te deel nie. Ag nee, my hartjie, dis te gevaarlik! kom die onverwagte en, vir my dogter, teleurstellende reaksie. Hoekom wil Ouma nie hê ek moet gaan nie?

“Miskien lê die antwoord in die liedjie wat sy altoos met haar kleinkinders uitgevoer het. “’ansie slim, berg wil klim, in die wye wêreld in, stok en hoed, pas hom goed, hy is vol van moed. Maar die moederhart is seer, Hans is in die huis nie meer. Hoor nou net, Moeder sug, Hans is gou-gou terug.’ Die ouma het die avonturier getroef.

“Maar ’n Sewentiger was sy by uitnemendheid. Binne die kring van Afrikaanse skrywers vind sy ’n geborgenheid – die Skrywersgilde. Met die kinders uit die huis vind sy en my pa ’n kring vriende van Afrikaanspraters, teen-sensuurpraters, lekkerpraters. Dit gee vir haar ’n bevryding van die bevange dampkring van die tradisionele Afrikaner-wees.

“Die dinamika tussen skryf en gesin word ook gekarteer in haar werkruimte. In ons huis in Johannesburg werk sy in die sitkamer: haar lessenaar in die boogvenster, die Remington-tikmasjien en papiere netjies weggepak wanneer ons van die skool af kom. Nie ’n teken van skryf nie, hoewel sy later beken dat sy notas op die agterkant van ’n sigaretdosie maak terwyl die kinders aan ’n swemgala deelneem.

“Met die skuif Kaapstad toe in die 60’s, na Belvederelaan 35, bly sy steeds aan ’t skryf in die sitkamer op dieselfde klein lessenaartjie, nou op ’n elektroniese tikmasjien, terwyl my pa die weelde van ’n eie studeerkamer kry. Weer maak sy haar lessenaar elke middag skoon wanneer kinders en later kleinkinders huis toe kom. Dis eers met die skuif na Belvederelaan 29, dertig jaar later, dat sy ’n werkkamer van haar eie kry.

“Toe sy die huis ná my pa se dood in 1998 moes opgee, betrek sy ’n woonstel in Berghof, ’n aftreekompleks. Ewe skielik was die wêreld van twee vertrekke te klein, geen plek vir haar ou lessenaar nou met ’n rekenaar daarop, geen ruimte vir gedagtes nie, vir stories om hul loop te neem nie. Toe as tagtiger, nou chronologies, bekom sy nog ’n vertrek oorkant die gang wat sy as werkplek omskep vir haar boeke, papiere, foto’s. Dáár kan sy skryf. Daar speel sy ook wegkruipertjie met haar ál groter wordende kleinkinders.

“Nou as negentiger wag die studeerkamer nog elke dag vir haar. Daar is nog stories om te skryf. Daar is nog stories om vir die kleinkinders te vertel, soos nou die dag – tot hul skok en plesier, die storie van hoe hul ouma op ’n Nyl-boot met Skotse skeepsoffisiere flankeer.

“Die skrywer én die ouma is altyd daar.”

Amanda Botha wou weet of Elsa gedryf word deur ’n tema of deur ’n boodskap. Elsa reageer: “Daar is altyd ’n bietjie verwardheid oor boodskap en tema. Ek hou nie van die woord boodskap nie, want ’n skrywer moenie ’n boodskap hê nie. Hy is nie ’n predikant nie. Klaas het altyd vir my gesê: ‘Jy is nie op ’n preekstoel nie’. ’n Boodskap is die laaste ding wat jy moet bring. Die keuse van jou tema is alreeds ’n boodskap. Byvoorbeeld, toe ek gekies het om oor Poppie te skryf … toe was die boodskap mos nie in wat ek daaruit haal of te vertel het nie. Die boodskap is die hele tema waarin ek besluit het om my in te verdiep. Die boodskap is al klaar jou tema, jou tema is al klaar jou boodskap.”

Oor die skakeling tussen haar reisverhale en romans sê Elsa aan Botha dat elke roman sy kiem in ’n reisverhaal het. Die twee stories in Twee vroue (2002) het albei uit reise ontstaan. “Pampas” speel af in Patagonië en is gebaseer op ’n reiservaring wat sy en Klaas in die St Katherina-klooster in die Sinai-woestyn gehad het. “Dit is iets wat jou daar prik en daardie ding bly by jou. Jy wil dit verwerk. Want ek vind dat as ek reis, is ek oper vir situasies waar ek ’n probleem of iets kan sien wat ek kan ontgin. Die Wahlerbrug (1969) was direk uit ’n ervaring wat ek gehad het in een of ander museum in München. Bonga (1971) was direk beïnvloed toe ek oor die aringa (nedersetting van die Massangano aan die oewer van die Zambezirivier) gevlieg het. Ons wag op die kaptein was direk beïnvloed deur die mense waar ek gebly het in Lissabon toe ek by die Ambassade gewerk het in die maande voor my troue. Die Laaste Sondag (1983) kom direk uit ’n besoek in Angola.

Poppie – ja, Poppie (Die Swerfjare van Poppie Nongena, 1978) – kom ook uit ’n reisverhaal. Ek het gedink ek het te veel oor ander lande geskryf en wou reisverhale in ons eie land skryf. Ek het met navorsing begin. Ek het na al die tuislande gegaan; ek is na Langa, Nyanga, Gugulethu. Ek het daar gegaan na skole, ek het na kore geluister, na die hof gegaan waar die ma’s vir onderhoud vra, en na die paskantore gegaan. Ek het dit alles gedoen met die doel om ’n reisverhaal in ons eie land te skryf. Ek het gevoel ons weet nie wat om ons aangaan nie. Ek wou probeer om die sluier te lig van wat net tien kilometer van ons in Kaapstad aangaan. Ek was in Soweto, ek was orals. En toe ontmoet ek vir Poppie … en ek besluit om rondom haar ervaringe ’n storie te doen. Maar dit was ook direk uit my kennis van wat ek vir ’n reisverhaal voorberei het. Almal sê dat ek so gelukkig was dat die vrou spesifiek na my toe gekom het. Dit was nie ’n geval van geluk nie; ek was reg vir haar. Ek het al die inligting al versamel gehad. As sy iets sê, het ek geweet waarvan sy praat. Ek het die hele toneel gesien, want ek was in daardie kantore. Ek het by die kommissie wat die 1976-onluste ondersoek het, se sittings ingesit. Ek het my huiswerk gedoen gehad.”

Oor die vrouekarakters in haar boeke sê Elsa dat hulle meestal soekend is. "Net Poppie nie. Sy is die sterkste van almal. Sy soek nie. Sy moet net haar familie laat oorleef. In só ’n situasie word die vrou sterk. Dalk lê Belle (in Die reise van Isobelle) haar die naaste aan die hart. Belle wat ondergegaan het deur apartheid. Party mense sê hulle weet nie hoekom sy so ondergegaan het nie ... ná ’n liefdesverhouding na drie of vier dae nie. Die punt was nie net dat sy daardie man verloor het nie, maar ook dat sy haar hele plek in haar volk verloor het. Sy het eintlik haar inlewing met haar volk ook verloor. Sy was beroof van haar volk net soveel as wat sy van hom beroof is. Toe sien sy alle dinge duidelik en sy sien die enormiteit van wat aangaan in haar land.”

In ’n mate is dit ’n toespeling op Elsa self, aangesien sy reeds in die veertigerjare ook in ’n mate haar volk verloor het. “Ek is baie lief vir Afrikaans. Afrikaans is vir my baie belangrik … geweldig belangrik. Maar ’n mens kan nie Afrikaans en volk gelyk stel nie.”

In haar werke het sy twee manlike hoofkarakters geskep, naamlik Bonga en Van der Lingen. Teenoor Amanda Botha twyfel Elsa of sy ’n moderne man sou kon uitbeeld, “maar hierdie Bonga was … ek het sy milieu, sy probleem en sy situasie so goed geken. Ek het gevoel dat ek daarin kon opgaan. Ek het ook gevoel dat ek in Van der Lingen kan wees. Ek het natuurlik sy briewe en sy dagboek gehad. Ek het gevoel ek is in hom. Phil du Plessis kom een Woensdagmiddag kuier. Toe ek die deur oopmaak, vra hy: ‘Wat makeer jou, hoekom huil jy?’ Ek sê: ‘Van der Lingen is nou net dood.’ Jy weet toe is hy nou net dood. Ek was heeltemal, ja, heeltemal verweef met hom. Die twee mans … by Bonga was dit die situasie van geestesgoedere wat die meesterras nie wou deel met die ander nie en hoe dit tot albei se vernietiging gelei het. Dit was die toespeling. Toe, snaaks, ek het eers probeer om hierdie hele tema in Suid-Afrika te probeer afspeel. Dit het glad nie gewerk nie. Ek moes dit ver weg geplaas het. Die missionaris was ook ’n idee gewees, dit was ’n ideëroman van hoe die Westerling, die Hollander, aangepas het met sy geloof, sy lyf en met alles in hierdie dorre Afrika …”

In 2018 verskyn die derde deel van Elsa Joubert se outobiografiese tekste getiteld Spertyd. Die aanvanklike titel was Doodloopstraat. By die bekendstelling van Spertyd in Berghof waarheen Elsa verhuis het, spreek die redakteur van die boek, Etienne Bloemhof, sy bewondering uit vir Elsa Joubert se ongelooflike intellek. (LitNet)

"Langs die pad is daar een of twee klein hobbels, soos die uwe wat dink die teks is bestem om (soos enige ander) deur die normale redigeringsprosesse te gaan ... totdat mevrou Steytler my gedurende die eerste informele werksessie vriendelik dog ferm daarop wys dat die struktuur van die boek, met sy lange paragrawe, min interpunksie, die aaneenloop van gedagtes, ens, baie doelbewus beplan was om te illustreer 'hoe deurmekaar ’n ou mens se gedagtes raak'. Die bewussynstroomtegniek, oftewel dit wat my vriend die joernalis Erns Grundling noem 'die amperse James Joyce wat Elsa gedoen het', en wat nogal groot uitdagings aan die uitlegkunstenaar, die proeflesers én redakteur Bloemhof gestel het, werk egter soos ’n absolute bom, en dit beklemtoon hoe interafhanklik, hoe onlosmaaklik hede en verlede is, hoe assosiatief ’n mens se gedagtes.

"En met watter verstommende intellek het ons nie hier te make nie! Nie alleen sê Spertyd meer as byna enige ander boek wat ek ken oor die oudwordproses nie, maar – en dit sê die skrywer self – 'Dis eintlik ’n boek oor die menslike bestaan.' Om die flapteks aan te haal (want ek reken dis een van my beter oomblikke): 'Dit bied nie alleen helder insig in die skrywer se lewensbeskouing nie, maar nooi ten slotte elke leser uit om diep na te dink oor sy of haar eie bestaan.' En dít sonder enige sweempie van sentimentaliteit; trouens, mevrou Steytler het dit – vriendelik dog ferm – geveto toe ek een van my gunstelingwoorde, 'deernis', in die blakerteks wou inspan.

"In ’n jaar wat gekenmerk word deur groot boeke uit NB Uitgewers se stal – ek dink aan dié van Etienne van Heerden, Eben Venter, Karel Schoeman, Marlene van Niekerk, en ja, ook Jacques Pauw – is Spertyd ’n publikasie waarop ons geweldig trots is. Dit is ’n belangrike boek wat een van Afrikaans se gróót geeste se reputasie opnuut bevestig. Klokhelder. Dit is ook ’n boek wat vir my en Solette Swanepoel die bevrediging bied – so hoop en vertrou ons – dat ons darem niks gedoen het om die indrukwekkende inhoud skade aan te doen nie!

"Ek vermoed Spertyd is ’n boek wat vir velerlei lesers ’n velerlei verskillende dinge gaan beteken. ’n Ryk boek wat baie verskillende invalshoeke kan akkommodeer. Net vanoggend skryf Erns Grundling byvoorbeeld aan my: 'Waarvan ek veral hou is dat Elsa Joubert nou eers besef al haar boeke – romans en reisboeke – het gegaan oor die storie van die onderdruktes, die gemarginaliseerdes ... Op ’n manier is Spertyd dalk ’n voortsetting hiervan. As ’n mens dink aan bejaardes se uitdagings, hoe hulle uitgeskuif word in die samelewing ...'

"Hierdie boek is een wat homself by uitstek nie maklik laat inperk of kategoriseer nie. Ek dink dadelik aan die heerlike humor rondom StomJapie (die loopraam op wiele) of die amper burleske beskrywing van ’n groot ete saam met mede-negentigjariges. Dan is daar die sober, deurtastende blik op maatskaplike en ander baie belangrike sake. En dan weer die sjarmante blik op ’n intieme gesinslewe ... Ek dink nie dis vergesog om te sê nie: dis ’n belangrike boek wat veel sê oor hoe dit is om in Suid-Afrika te lewe.

"Mevrou Steytler het nou al by ’n paar geleenthede genoem dat sy nie meer die energie het om op reis te gaan nie. Maar uiteraard ís Spertyd ’n reisboek ... oor die binnereis, 'om die ouderdom as ’n kontinent te verken ...' Bowenal is dit ’n geskenkboek – dit is ’n geskenk aan alle Elsa Joubert-aanhangers wat by die lees van dié boek opnuut sal besef, wel, presies hóékom hulle Elsa Joubert-aanhangers is."

In sy resensie op LitNet skryf Chris van der Merwe dat hoewel Spertyd beskou kan word as ’n vervolg op ’n Wonderlike geweld en Reisiger, dit ook ’n teks is wat op sy eie bene kan staan. "Dit handel oor die belewing van ’n hoë ouderdom, maar die ouderdom is verstrengel met die verhale van vroeër. In die afsluiting van haar lewe is ’n ganse leeftyd opgeneem.

"In haar resensie in Rapport (26 November 2017) wys Louise Viljoen daarop dat die woord 'spertyd' verskillende betekenisse kan hê. 'Spertyd' dui op tyd wat verbygaan, op ’n taak wat betyds voltooi moet word. ’n Mens dink aan die Engelse woord 'deadline', wat vir hierdie boek baie relevant is, want die dood is hier die finale sperdatum. Dit speel ook mee in die titel van die eerste hoofstuk, 'Doodloopstrate'. Viljoen wys egter daarop dat 'sper' ook etimologies met 'wyd oopmaak' verband hou; dink maar aan 'oopgesperde oë'. Ook dié betekenis is hier van belang, want Spertyd is ’n boek oor sowel die afsluiting van die lewe as dinge waarvoor die oë in die laaste lewenskof oopgaan."

Van der Merwe sluit sy resensie af: "Spertyd is ’n wonderlike boek, ryk aan insigte en met ’n verskeidenheid van emosies. Dis ’n boek wat ontstel maar ook inspireer; wat die leser ontroer en laat glimlag; wat die skok van die mens se verganklikheid balanseer met die troos van dinge wat standhoudend is."

In Rooi Rose (5 Februarie 2018) vergelyk Willie Burger Spertyd met Karel Schoeman se boek oor oudword, Slot van die dag wat postuum in 2017 verskyn het. "’n Mens kan byna nie vermy om hierdie twee outobiografiese beskouings van die oudwordproses deur twee belangrike Afrikaanse skrywers met mekaar te vergelyk nie. Een van die vernaamste verskille tussen Schoeman en Joubert is dat Joubert kinders en kleinkinders het.

"Soos Schoeman, skryf Joubert sonder skroom oor die verlies wat hoë ouderdom meebring (...). Sonder om sentimenteel te raak, sonder om selfbejammerend te wees, beskryf Joubert in Spertyd hoedat ’n ouerwordende mens se wêreld al meer ingeperk raak, dat ’n mens 'met vermindering op elke terrein' leef. Maar dan vra sy haarself af wat die 'seën van ’n geseënde hoë ouderdom' dan sou wees. En sy antwoord: 'Wat hier met helder ligte uitstaan, is jou kinders'. (...)

"Om te skryf is ’n manier om ervarings weer te bedink, om betekenis aan alles te kan gee. Joubert het haar lewe lank geskryf om haar bestaan in hierdie land te begryp. Sy doen dit steeds in Spertyd. Haar 'agternaloop met woorde' bied vir haarself insigte en gee sin aan haar al meer ingeperkte bestaan. Sy beskryf die inkrimping op nugtere manier sonder om haar aan ’n verlammende nostalgie of moedeloosheid oor te gee. Sy probeer steeds nuwe sin gee, nuwe dinge leer – al is dit hoe om sinvol met haar afgetakelde liggaam om te gaan. En omdat sy steeds wil leer en oop is vir nuwe maniere van verstaan, is Spertyd nie so pedanties en negatief as Schoeman se Slot van die dag nie."

Op Woorde wat weeg is Joan Hambidge eweneens beïndruk met Spertyd. "Spertyd sit vol vinjette wat vir die leser en Joubert-liefhebber sleutels gee tot haar sosiale gewete. Dit is ’n boek waarin die skrywer hardop dink, onder andere oor taal. Sy nuanseer telkens haar gevoelens. Enersyds is sy krities oor die Afrikaner se groepdenke (met Afrikaans wat nou ook in die spervuur is); andersyds weet sy Engels is die wêreld- en kompertaal. Sy is wel ’n taalpatriot, bely sy, en maan ons om eerder die klein erfie wat jou toebedeel is, te bewerk (128).

"Daar is herhalings wat te make het met die sirkelgang, met herbesoeke, met hardop-dink. Vriendskappe word beskryf (Audrey Blignault, Rita Scholtz, Annari van der Merwe, die taxi-bestuurder …) en die belangrikheid van haar kinders en kleinkinders – en natuurlik: haar man, wyle Klaas Steytler, ’n onderskatte skrywer.

"Wat Elsa Joubert skryf oor die behoud van boeke, moet ons almal ter harte neem. Hoe boeke (regte boeke) vertroos. Sy verwys na ’n boek uit 1926, Sahara, en hoe onmoontlik dit sou wees om hierdie boek elektronies te lees. Hoe boeke om haar staan, wegraak, asemhaal, ja dit kan ’n mens nie vergeet nie.

Eweneens boeiend, is die verhouding met haar liggaam en siekte; die agterbaksheid van die liggaam. Dan is daar ’n sterk besinning oor stilte wat in ons almal skuil. Boeiend, prikkelend, sensitief …"

Publikasies:

Publikasie

Water en woestyn: ’n reis deur Afrika van die oorsprong van die Nyl tot by sy mond

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1960
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verste reis

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Suid van die wind: die verhaal van drie eilande

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1965
  • 1968
  • 1969
  • 1970
  • 1974

ISBN

062400435X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons wag op die kaptein

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1968
  • 1971
  • 1973
  • 1977
  • 1979
  • 1980
  • 1981
  • 1982
  • 1983
  • 1985
  • 1986
  • 2005 (Klassieke Uitgawe)

ISBN

  • 0624004120 (hb)
  • 0624009696 (hb)
  • 0624021769 (sb)
  • 0624042715 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

· Eugène Marais-prys 1964

Vertalings

· Engels vertaal deur Klaas Steytler 1982

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die staf van Monomotapa: reisjoernaal oor Mosambiek

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Swerwer in die herfsland

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1972

ISBN

0624002861 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Wahlerbrug

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bonga

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1976
  • 1985

ISBN

  • (hb)
  • 0624022277 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

CNA-prys 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die nuwe Afrikaan: ’n reis deur Angola

Publikasiedatum

1974

ISBN

0624005739 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die swerfjare van Poppie Nongena

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1979
  • 1986
  • 1993
  • 2000

ISBN

  • 0624011984 (hb)
  • 0624023338 (sb)
  • 0624123757 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1978
  • Louis Luyt-prys 1979
  • WA Hofmeyr-prys 1979
  • British Royal Society of Literature Winifred Holtby-prys 1980

Vertalings

  • Engels vertaal deur die outeur 1980, 1981, 1985
  • Frans vertaal deur D Petillot 1981
  • Spaans (Buenos Aires) vertaal deur Y Salvá 1981
  • Duits vertaal deur KH Kosmehl, 1981, 1982
  • Bulgaars vertaal deur C Karag’ozova 1982
  • Nederlands vertaal deur A Swierenga 1985
  • Amerikaanse weergawe deur die outeur 1985
  • Hebreeus vertaal deur M Singer 1987
  • Italiaans vertaal deur B Armellin 1987
  • Spaans (Madrid) vertaal deur Y Salvá 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Melk

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014969 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste Sondag

Publikasiedatum

1983

ISBN

06240022412 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur A Jonker 1989

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Poppie – die drama

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020436 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vier vriende en ander stories uit Afrika

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1987
  • 1997

ISBN

  • 0624021181 (hb)
  • 0624025217 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur die outeur 1987

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Missionaris: roman

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026639 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • WA Hofmeyr-prys 1989

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dansmaat

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624030326 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die reise van Isobelle

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624034232 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 1996
  • Hertzogprys 1998

Vertalings

  • Engels 1998
  • Duits vertaal deur Stefanie Schäfer 2005, 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gordel van smarag: ’n reis met Leipoldt

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624036065 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee vroue: novelles

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2006

ISBN

  • 062404145X (sb)
  • 06240444319 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Wonderlike geweld: jeugherinnerings

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042898 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2018, A lion on the landing

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Reisiger: die limietberge oor

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048121 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

  • UJ-prys vir letterkunde 2010
  • Recht Malan-prys vir Niefiksie of Nieliterêre werk 2010
  • Louis Hiemstra-prys vir Niefiksie 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spertyd

Publikasiedatum

  • 2017
  • 2018

ISBN

9780624084327 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken

  • kykNET-Rapportprys vir Niefiksie 2018
  • ATKV-prys vir Niefiksie 2018

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van artikels oor Elsa Joubert op die internet beskikbaar

Artikels deur Elsa Joubert beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Elsa Joubert (1922–) appeared first on LitNet.

Reza de Wet (1952–2012)

$
0
0

Gebore en getoë

Reza de Wet is op 11 Mei 1952 in Senekal in die Oos-Vrystaat gebore, die enigste kind van regter HF de Wet en Elizabeth Mary (née Marais). Sy is die agterkleindogter van Charlie Marais, wat die ouer broer van Eugène Marais was. Generaal Christiaan de Wet was haar oupagrootjie se neef. Haar pa was later hoofregter van die Vrystaat.

Reza vertel vir Willemien Brümmer (Die Burger, 26 Maart 2011) van haar ouma en ma: “My ma het ’n wonderlike sin vir die bisarre en die makabere gehad – ’n gebore aktrise. My ouma was ’n begaafde mezzo-sopraan wat by La Scala in Italië ’n kontrak aangebied is. Maar toe gaan haar ouers in die Groot Griep dood en die ouma kry ’n helse nervous breakdownNervous breakdown was elke tweede woord in ons familie.”

Elke jaar het Reza en haar ma in die voorste ry by die sirkus gesit. “My ma wou hê ek moet skrik as die narre so vreeslik raas. En die sweefkunstenaars! Oeee, en die tente was so hoog!”

Reza was vroeg reeds verlore in haar eie wêreld, vertel sy aan Wilhelm du Plessis (De Kat, Julie 1997). "As enigste kind lees ek baie en tower ek maatjies op wat niemand kon sien nie. Ek begin skryf toe ek vyf jaar oud was. Toe ek in sub A (graad een) was, het ek reeds ’n bloemlesing van ongeveer twintig gedigte of versies gehad. Ek word ook groot op Eugène Marais se gedigte en die donker verbeeldingswêreld van sy kortverhale en spookstories."

In haar ouerhuis is Reza van jongs af aan die kunste blootgestel. In ’n onderhoud met Madeleen Welman in Rooi Rose van 30 Desember 1992 sê sy: “My ma het ’n intuïtiewe begrip en liefde gehad vir alle kunsvorme. Daar was altyd kuns- en musiekmense by ons. My pa weer, is ’n wetsmens, ’n logiese mens. Sy stille krag en bestendigheid het my ewewig gegee.” By haar ma het sy nie net liefde vir die kunste geleer nie, maar veral om ’n individu te wees. “Sy was ’n algehele non-konformis met ’n absolute afsku van enigiets wat bloot die norm was. Sy was so omdat my ouma so was.”

Reza vertel aan Una Nieuwoudt (Die Burger, 16 Maart 1994) dat sy maar drie was toe sy die eerste keer teater toe is om te gaan kyk hoe haar ma in ’n operette sing. “Kleintyd het die teater al vir my ’n soort feëverhaalelement gehad. Ek het gedink dis toordery wat my ma so klein laat word het en het haar gevra of dit seer was.” Op vyfjarige ouderdom woon Reza haar eerste toneelstuk by saam met haar ma in die saal van Oranje Meisieskool.

In sub A sou Reza in haar eerste toneelstuk speel. “Elke toneelstuk waarin ek ooit was, was vir my ontsettend belangrik. Ek onthou dit asof ek wérklik daar was. Ek moes as ’n muis op en af van ’n stoel klim en die kinderrympie ‘Hickory dickory dock’ sing. Ek het so ’n groen geruite rok gehad, en ’n dik stert. En toe word ek siek – ek was báie siek as kind. Ek kon nie meer in die konsert wees nie, en ek het so aan die stert vasgehou en gehúil. Dit is tóé dat ek aan myself belowe het dat as ek gesond word, ek áltyd in konserte gaan wees.”

Haar loopbaan as toneelspeler begin ook op skool, waar daar ’n baie goeie dramavereniging was en ook ’n baie goeie Engels-onderwyseres, Miss Ligget. Die produksie van Quality Street het alles begin. Reza vertel aan Andreij Horn in ’n onderhoud in Die Bult van September 1998 nadat sy in 1998 aangewys is as een van die Oud-Kovsies van die jaar, dat sy op skool die ster van die opvoerings was. “Dit het net so ’n belangrike invloed op my latere lewe gehad. As daar een mens op skool was wat my op ’n besondere manier geraak het, was dit Miss Ligget. [...] Al ons opvoerings was in Engels, omdat dit natuurlik die werke was waarin sy belang gestel het. Ons het dit saam met die seuns van St Andrew gedoen. Dit was nogal ’n snaakse kombinasie vir daardie jare. Oranje en die Engelse seunskool. Ek dink nie dit is ooit weer daarná gedoen nie. Die invloed van dié soort ervaring bly by ’n mens.” Hoër Meisieskool Oranje is ook waar Reza gematrikuleer het.

In De Kat van Junie 1988 verduidelik Reza aan Rachelle Greeff van haar gewaarwordinge oor haar eerste sestien lewensjare in Bloemfontein, die hartland van die Afrikanerdom, en watter rol dit later in haar werk speel. "Tydens my skooljare in Oranje Meisieskool is die Anglo-Boereoorlog deurentyd beklemtoon. Daar was ’n standbeeld van die vrou met die kappie en ’n heilige ontsag is daagliks vir dié beeld ingeprent. Ek het intens bewus geword van die atmosfeer van die oorlog, en in my stuk Nag, Generaal kom dit sterk na vore. “Gelukkig was daar die twee jaar in Kimberley. Dit was, dankie vader, ’n gemengde skool met ’n hoë persentasie minder gegoede kinders. Dis van hulle van wie ek gehou het. Mense met vitaliteit, in noue kontak met die lewe. (...) Die lewe hier was ryk aan tekstuur. Ek was agt en nege jaar oud, en die Kimberley-ervaring het my wesenlik verander.” Op Kimberley het Reza geskryf en opgevoer en die kindertjies van Du Toitspan gelok met koekies en koeldrank. Die aksie het hulle nie so geboei nie en elke nou en dan het ’n stemmetjie haar op die “verhoog” bereik: “Kan ek nog ’n koekie kry, asseblief?”

Sy het eintlik nie hiper-Afrikaans grootgeword nie, sê sy aan Barrie Hough (Rapport, 0 Augustus 1998). “My familie is nie hiper-Afrikaans nie. Ek het ’n eienaardige familie. Dit is meer die mense wat om ons gebly het en met wie ek in aanraking gekom het, wat my die Afrikaanse onderbou gegee het. Ek kom eintlik uit ’n effens vervalle, dekadente familie as ’n mens praat van Afrikanerdom. Ek is nooit kerk toe gesleep nie. Daar’s nooit met sulke dinge gedweep nie. Daar was eintlik baie vryheid en ek het ontsettend in aanraking gekom, vandat ek klein was, met Engelse en ander letterkundes. My ma-hulle se boeke was alles Engels. Ook wat ek gelees het toe ek klein was, was dikwels Engels. Ek dink dit vorm insig.” Reza lees Saarttjie en Trompie saam met William Brown en Enid Blyton. Sy kon ewe lief wees vir Saartjie en Little Women, maar lees die een met een deel van haar en die ander met ’n ander deel.

Sy erken teenoor Johann Botha (Die Burger, 13 Maart 1993) dat Senekal vir haar ook soos die hemel was. “Die dorp was ’n plek met kante. ’n Kind dink mos groter as die lewe. Op die dorp was sulke mense. En my ouma-hulle was glad nie eng nie. My ouma was nogal eksoties! Op Senekal was die mense eenvoudig nader aan jou, alles was soveel meer onmiddellik. Daar was mense op die platteland wat miskien glad nie in die stad sou kon oorleef nie. Soos die hoer van die dorp, wat deur die kerk versorg is. Haar uitstal van haar organe, haar uitdagende klap op haar buik en gespog: 'Kyk, ek is hol!' In vergelyking was die stad maar grys. Die bisarre, die makabere het deel geword van my ervaring.”

Op vyftienjarige ouderdom word sy die eerste keer aan die Russiese dramaturg Anton Tsjechof bekendgestel, en dit verander haar hele idee van drama en was vir haar tegelyk baie bekend, maar ook misterieus en betowerend. En die mistiek is vir haar baie belangrik. Die werk wat Sukovs in die laat jare sestig in Bloemfontein gedoen het, het vir soveel teateropwinding gesorg dat dit vir Reza beïnvloed het. Sy was nog op skool, maar kon na eksperimentele teateraanbiedings soos Becket se Waiting for Godot gaan kyk.

Verdere studie en werk

Na skool sit Reza haar studies voort aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy in 1973 haar BA-graad behaal met drama en Engels as hoofvakke. Sy verwerf ook haar BA Honneursgraad aan die UV. Gedurende haar studiejare speel sy gereeld toneel – in die Vrystaat, in Kaapstad en in die destydse Transvaal, onder meer vir Truk en die eksperimentele Arena-geselskap. Sy speel hier saam met Lindsay Reardon, haar toekomstige eggenoot.

Een van haar eerste hoofrolle was juis vir Truk se Arena-geselskap. Sy het die rol van die verlamde Lis in Arrabal se Fando en Lis gespeel. “Eers laat die sadistiese Fando my val van ’n hoogte,” vertel sy aan Willemien Brümmer, “soms pluk hy my aan my hare rond. Saans vee die verhoogbestuurder my heuplengte hare met ’n reusebesem van die verhoog af. Ek was in soveel pyn dat die dokter vir my vra of ek in ’n ‘major car accident’ was.”

Tien dae ná die openingsaand tref Reza ’n ontstelde verhoogbestuurder aan. Die vertoning moet gekanselleer word, want Fando het geval en twee ribbes gebreek. “Ek is jammer om te sê, maar ek was so ontséttend verlig!”

Sy vertrek daarna na die Universiteit van Kaapstad, waar sy ’n nagraadse diploma onder Robert Mohr behaal. Sy slaag later haar meestersgraad in Engels aan Unisa. Reza begin ook in 1985 met haar doktorale tesis oor Henry James. Sy is dosent aan Rhodes-universiteit in Grahamstad, waarheen sy en haar man en dogter, Nina, in 1982 verhuis het.

Nina se geboorte het ’n oorgangsfase in haar lewe ingelui. Vir haar was haar kind ’n band tussen haar en die wêreld. “Sy het my binnewêreld gedwing om te skakel met die wêreld daar buite, die werklikheid. En uiteindelik was daar iemand wat nie aan die einde van die dag moes huis toe gaan nie.” Die trek na Grahamstad was die gevolg van die onpersoonlike bestaan en gejaagdheid van Johannesburg. “In ’n betonoerwoud verloor jy kontak met jou wortels, jou kern. En Grahamstad (waar Casspir en donkiekar saamry) het na die ideale plek gelyk. Dis so half nêrens: ’n plek van vier winde,” het sy aan Brümmer verduidelik.

In 2007 tree Reza uit as professor van die Dramadepartement van Rhodes-universiteit.

Die eerste stuk skryfwerk wat Reza geskryf het, was ’n Engelse toneelstuk getiteld Heathcliff and the dancing bear, oor Heathcliff se jeug voordat hy op Wuthering Heights aangekom het. Uys Krige se Die goue kring was die eerste toneelstuk wat sy ooit gesien het. Haar ma was die toneelbestuurder en dit het ’n baie groot indruk op die jong Reza gemaak – die eenvoud en die betowerende kwaliteit daarvan.

Haar wortels lê in die eerste vyftig jaar van die twintigste eeu. Sy het nooit regtig ’n aanvoeling gehad vir die moderne Afrikaanse letterkunde nie. Sy vertel aan Anja Huismans en Juanita Finestone: "Ek is dol oor Totius en Boerneef en hulle werk is vir my pragtig. Ek is ook beïnvloed deur ander literêre tradisies en lees baie, maar meestal Engels. Ek het geweldige ontsag vir Henry James en die manier waarop hy met menseverhoudings en die ongesegde tussen mense omgaan. En dan is daar ook Becket en Arabel en natuurlik Strindberg, Ibsen en Tsjechof."

In 1984 begin Reza skryf aan Diepe grond. In 1985 moes ’n vriend van haar by die Dramadepartement by Rhodes na die ATKV Kampustoneelfees gaan en hy het toe nie ’n stuk nie. Hy vra Reza se hulp. Aan Riaan de Villiers (Die Suid-Afrikaan, 31 Mei 1987) vertel sy dat sy baie “disgusted” met die stuk was en lanklaas daaraan gewerk het. Maar die belangstelling herlewe en sy skryf goed by. “En toe ons begin werk daaraan het ek eers baie entoesiasties geraak. Want ek kon elke dag gaan, self speel en die ding in die praktyk sien. Só het ek hom eindelik klaar geskryf, in die loop van hierdie proses.”

Met die skryf van Diepe grond gebruik Reza Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas as literêre verwysingspunt. Die name stem ooreen met dié in Rivierplaas, maar daar is ’n hemelsbreë verskil tussen haar en Alba Bouwer se werk. Sy gesels met Barrie Hough (Rapport, 19 Augustus 1998): “Alba Bouwer het ’n mitiese en idilliese Suid-Afrikaanse kleintyd geskep. [...] In Diepe grond beeld ek die vernietiging van ’n dergelike paradys uit. Veral die rol van die swart vrou, Melitie, is vir my baie belangrik. Ek sien haar as ’n soort beginpunt vir die ‘kinders’ in Diepe grond. [...] Melitie ... is vir my ’n karakter wat diep in Afrika gewortel is, ’n soort Moeder Afrika.” Diepe grond is ’n swart komedie oor ’n broer en suster wat vasgevang is in ’n ewige kinderlewe deur hulle oorlede ouers se streng waardes. Hulle swart kinderoppasser gee vir hulle die onbevange liefde wat hulle ouers nooit aan hulle kon gee nie. Hulle deel dieselfde bed en herspeel klein traumatiese tonele uit hulle verlede waarin hulle soms die persona van hulle ouers aanneem.

Die wye reaksie op hierdie stuk ná die Kampustoneelfees was vir Reza ’n skok. Sy het nooit verwag dat wat “vir my ’n private spel was, ooit so ’n reaksie sou ontlok en wyer implikasies kon hê nie”. Mense het na haar toe gekom met trane in hulle oë en het gesê dat sy die Afrikaner se psige blootgelê het en dit met deernis gedoen het.

Na die opvoering by die Kampustoneel koop die Markteater die stuk, maar kon vir ’n jaar en ’n half niks daarmee doen nie, omdat Tafelberg Uitgewers met ’n hofsaak begin het omdat die karakters na Alba Bouwer se karakters vernoem is. Die uiteinde was dat Reza die name van die karakters verander het, en die stuk is in 1986 in die Markteater opgevoer.

Reza het feitlik oornag ’n dramaturg van statuur geword, en die Markteater-produksie van Diepe grond met Lucille Gillwald as regisseur wen sewe Vita-toekennings. “Dit was net vir my ’n ontstellende ervaring om niks met die produksie te doen te hê nie. Ek onthou, ek het by iemand gebly met ’n houttrap waar ek so gesit en huil het. Dis son was nog nie op nie en ek het gesit en wag dat ek vir Lucille kon bel, want sy wou die helfte van die hoenderhok-toneel uitsny. Sy het dit toe nie gedoen nie, maar dit was nogtans ’n traumatiese gesprek,” vertel Reza aan Brümmer.

Diepe grond is in 1986 gepubliseer en in 1991 saam met Op dees aarde en Nag, Generaal onder die titel Vrystaat-trilogie uitgegee. Helize van Vuuren skryf dat daar ’n onbeholpenheid in die hantering van tegniek en ’n oordadigheid in Diepe grond is. Tog toon die jong dramaturg belofte – al het hierdie debuutdrama nog nie behoorlik vorm gekry nie. Die drama word met die AA Mutual-prys bekroon.

Op dees aarde is ook op die ATKV Kampustoneelfees opgevoer (in 1986), en ná die opvoering, waarin Reza die hoofrol speel, skryf Adrienne Sichel in The Star (15 April 1986): “Preconceptions had to be discarded to appreciate this exquisite flight of fantasy which dabbles thought-provokingly in the supernatural. De Wet ... proves once again that she is a writer and actress of international stature.”

In 1990 word Reza deur Robert Shore van die Dramadepartement van die Universiteit van Suid-Kalifornië in Amerika genader vir ’n vertaling van Diepe grond, wat hy bestempel as "a play of remarkable substance and power”. Hierdie vertaling is in Los Angeles as Deep ground deur beide die Universiteit van Suid-Kalifornië en die professionele teater opgevoer en is besonder positief ontvang.

Vrystaat-trilogie word in 1991 met die Rapport-prys vir drama bekroon en in 1992 met die CNA-prys. In 1994 ontvang Reza die Hertzogprys vir Vrystaat-trilogie, sowel as vir die trilogie Trits (waaroor verderaan meer). Sowel Diepe grond as Op dees aarde is vir Vita- en Dalrotoekennings benoem en in 1986 ontvang Diepe grond sewe Vita-toekennings. In 1987 ontvang Op dees aarde ook ’n Vita-toekenning, en drie Vita-toekennings volg in 1989 vir Nag, Generaal. Hierdie drie tekste vul mekaar goed aan en is ingebed in die geskiedenis van die Afrikaner. Dit dui op die enigheid van Calvinistiese leerstellinge soos baie Afrikaners dit vertolk.

In 1988 bring die Markteater vir die eerste keer ’n Afrikaanse stuk na die Grahamstadse Kunstefees in die vorm van Reza se Nag, Generaal. In hierdie stuk streef sy daarna dat Afrikaners met Afrika versoen moet word. Die drama se aanvanklike titel was Paljasdraer.

In 1989 word Reza se Engelse stuk In a different light in die Markteater in Johannesburg opgevoer, en tien jaar ná haar eerste groot rol in dieselfde teater speel sy weer self in haar stuk. Hierdie stuk is ’n weerspieëling van Reza se persoonlikheid sonder die reaksie op sosiale druk. In ’n onderhoud met Chris du Plessis in Vrye Weekblad (14 Julie 1989) sê Reza meer oor hierdie stuk: "Hierdie Tsjechofagtige stuk behandel die intense perspektiefverskuiwings wat in menslike kommunikasie plaasvind, behandel; die chaotiese verstrengeling in mekaar se psiges; hoe mense se persoonlikheidstrukture verander afhangende van die mense met wie hulle te doen kry. Dis ook in ’n ander sin kommentaar op die deurmekaar verlede."

In 1991 word A worm in the bud by die Grahamstadse Kunstefees se randfees opgevoer en besorg dit aan Reza ’n Vita-nominasie as dramaturg van die jaar. Dit is in 2011 weer op die planke gebring met Karolien van Zyl en Stephanie Hough in die rolle van die twee susters Emma en Katy Bennett. Die een is in ’n Victoriaanse “parlour” en die ander in ’n opstal in die Karoo. In die briefwisseling van 1904 tussen die susters kom ’n aangrypende portret te voorskyn. Dit ís ’n teaterproduksie wat goed werk – klassieke Reza de Wet.

Reza se volgende gepubliseerde Afrikaanse dramateks is die trilogie Mis, Mirakel en Drif, wat onder die titel Trits gepubliseer word. Mis word in 1993 deur Kruik in die Arena-teater opgevoer met Marthinus Basson as die regisseur. Die stuk speel hom af op ’n dorpie ná die Depressie, en gaan oor ’n ma en ’n dogter wat oorleef deur op die plase in die omgewing mis te verpak. Dan besoek ’n sirkus die dorp en die spanning loop hoog, want die vorige twee jaar het ’n jong meisie elke keer onverklaarbaar verdwyn. Mis vorm saam met Mirakel en Drif ’n siklus van drie. “Soos in die mirakelspel van die Middeleeue is drie elemente verweef, naamlik die naïewe, die groteske en die wonderbaarlike." Mis ontvang in 1994 ’n Fleur du Cap-toekenning vir die beste nuwe inheemse drama.

In 2009 is Mis vir matriek voorgeskryf en is dit deur die regisseur André Stolz afgestof sodat daarmee na skole getoer kon word. Dit is aangepak met Bettie Kemp, Isadora Verwey, Morné Visser en Lelia Etsebeth in die rolle.

Marthinus Basson (Beeld, 18 Mei 2009) het die volgende oor Mis te sê gehad: “In Mis vertel die blinde polisieman wat gestuur is om drie weerlose vroue te beskerm teen die moontlike teenwoordigheid van ’n jongmeisiedief in die dorp, ’n aangrypende verhaal oor hoe hy as kind sy sig verloor het deur na ’n sonsverduistering te staar.

“Die verhaal is deurdrenk van sensuele detail wat ander vorme van sensoriese ervaring as sig belig. Dit dui ook die gevare van die oortreding van taboes aan en die vernietigende gevolge daarvan.

“Die polisieman is natuurlik nie blind nie, maar die verlosser van ’n jong meisie wat deur haar ma onderdruk word en vir ’n lewe mis verpak in streepsakke wat sy maak. Hy is ’n narre-Christus as teenvoeter vir die vreesaanjaende God van ’n afwesige pa, wat, nadat hy deur die Depressie geknak is en sy plaas verloor het, reeds vir sewe maer jare bo in die solder bly. ‘Wat is ’n boer sonder ’n plaas?’ sou ’n borduurlappie teen die muur kon sê.”

In Stolz se produksie vertolk Visser die rol van die polisieman, terwyl Kemp vir hope aardse humor sorg as die dorp se LO-onderwyseres, Miss Gertie.

“Dikwels is daar nie eens beligting in van die skoolsale waar ons optree nie, maar dit bly baie bevredigend om te sien hoe die betowering van teater die kinders aanraak,” vertel Stoltz (Beeld, 18 Mei 2009). “Ek kyk dikwels nie wat op die verhoog aangaan nie, maar eerder vir die leerlinge. Dan sien jy hoe hulle in die eerste 15 minute totaal meegevoer word deur wat op die verhoog gebeur.”

Stolz sê hy hoor gereeld van leerlinge wat op die plek besluit hulle wil gaan drama studeer. “Ek kan nie dink dat ’n mens ’n dramateks kan bestudeer sonder om dit lewendig opgevoer te sien nie.” Hy word ook dikwels verstom deur van die insig wat in die vraag-en-antwoord-sessie ná ’n opvoering na vore kom.

Stolz het Reza tydens die produksie van Nag, Generaal in 1988 ontmoet toe hy daarin gespeel het en ook assistentregisseur vir wyle Lucille Gillwald was. “Ek het gedink sy is ’n vreemde, wonderlike, beeldskone kreatuur. Daar’s ’n verfyndheid aan Reza wat die palet waarmee sy werk, verklap. Haar verbeelding is eindeloos.”

Dit was ook in die repetisietyd van Nag, Generaal dat hy sy “begeerte vir regie” kry het. “Die eerlikheid wat ’n regisseur moet hê ... met akteurs én dramaturg het ’n groot indruk op my gemaak. Ek wou nog altyd ’n stuk van Reza regisseer,” sê hy.

“Elke dramaturg het mos sy eie stories wat hy wil vertel. Baie van De Wet se dramas is in die verlede geplaas. Haar oeuvre lê in die eerste 50 jaar van die 20ste eeu, en in ons eie geskiedenis, maar dit gaan nie oor politiek nie. Dit gaan oor die politiek tussen mense. Haar werk vat ’n mens, veral met die eerste ses dramas in Afrikaans, van Diepe grond tot Drif, in ’n landskap in soos dié van Gabriel Garçia Marquez se romans. Dis nie realiteit nie, maar dis baie, baie real. Magiese realisme. En al lê die stories in die verlede, is die karakters só rond geskep ... hulle is totaal werklik. Kyk maar na die karakters in Mis, wat in 1936 afspeel.

“Elke mens in die gehoor kan op sy eie manier met een van die karakters identifiseer – veral met die drie vrouekarakters.”

Stolz sê hy en Reza deel ’n “obsessie” met Anton Tsjechof se werk, “die toneelstukke en die kortverhale”. En hy meen wat die resensent Paul Boekkooi in 1988 die Tsjechof/De Wet-idioom genoem het, is ’n fassinerende aspek van haar werk.

“As akteurs gesels en hoor dat iemand in ’n Tsjechof speel is daar dikwels ’n beroering,” sê hy. “‘O! Tsjechof!’ sê hulle. Dieselfde met Reza. Dis omdat dit so ’n uitdaging is om haar karakters te speel. Haar karakters, die vroue ook, het balls.

“Daar is ook dikwels ’n wêreld buite wat ons nie sien nie. Die sirkus. Die moordenaar. Wat mense intrek in haar dramas lê tussen daardie twee elemente, dit wat jy sien op die verhoog en dit wat onsigbaar daarbuite lê ... Daar is ook die kollektiewe onbewuste waarmee sy werk, die argetipes waarmee sy omgaan,” sê Stoltz. “Haar werk is rou in die sin dat sy die wortels uitruk – kyk maar na die idilliese, kinderlike, Vrystaatse plaaswêreld wat sy omdolwe inDiepe grond.

“In Mis gaan sy op gestroopte manier om met die Calvinisme. Dan is daar ook Reza se teater-magic. In Misbyvoorbeeld, wat ons by die skole aanbied in skoolsale, is daar net ’n tafel, vier stoele en ’n stofie.” 

Vir Mirakel is in Grahamstad in ’n skuur in Stephan Bouwer se agterplaas gerepeteer met akteurs soos Annalisa Weiland en Patrick Mynhardt. “Juis ’n stuk met die swaarkry en saamstaan van ’n groep akteurs as tema, en hier doen ons ons ding in die blyplek van omtrent veertig katte en honde, met die reuk van katpie wat alles omhul!” vertel sy aan Johann Botha.

Mirakel is in 2010 in Engels (Miracle) in die Leicester Square-teater in Londen opgevoer met die Britse ster Susannah York in die hoofrol. Dit is baie goed ontvang met die London Evening Standard wat De Wet se “stunningly adept” manipulasie van bekende dramatiese elemente “to chill the heart” geprys het.

Drif is in 1994 by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. Hierdie stuk is later in Engels vertaal as Drift en is in 1996 deur Kruik opgevoer met Marthinus Basson as regisseur. Spelers in dié Gotiese storie van mislukte liefde en dwase passie was Mary Dreyer en Diane Wilson as twee plattelandse susters met donker geheime en André Roothman en Jana van Niekerk as die geheimsinnige towenaar en sy pragtige assistent wat ’n nag onder die susters se dak deurbring. Drif is in 1995 benoem vir ’n Vita-toekenning as toneelstuk van die jaar en beste produksie van ’n nuwe stuk. Reza is ook benoem as Suid-Afrikaanse dramaturg van die jaar.

Reza was baie lief vir regissering. Die eerste stuk waarvan sy die regisseur was, was The crucible, waarvan sy in 1989 by Rhodes gevra is om die regie waar te neem. Sy het daarna August Strindberg se Ghost Sinata ook geregisseer. Oor die verskil tussen die verskillende aspekte van die drama het sy haar soos volg teenoor Kate Dyall (Eastern Province Herald, 29 Junie 1994) uitgelaat: “Wanneer jy ’n akteur is, leer jy die karakter ken. Om te skryf, is ’n eienaardige, subjektiewe ervaring wat baie privaat is – dit is ’n realiteit waarmee jy die hele tyd saamleef. Om ’n toneelstuk te regisseer, moet jy binne-in elke oomblik ingaan – die mense, wat hulle dra, wat jy hoor en sien en watter atmosfeer geskep is.”

In 1995 pak Reza ’n nuwe genre aan en word haar roman Stil Mathilda gepubliseer. Sy het ses maande met die storie in haar kop rondgeloop voor sy so tussen die klasgee deur daaraan begin skryf het. Dit het haar byna twee jaar geneem om te voltooi. “Die res van my wêreld het niks hiervan geweet nie. Maar ek het aanhoudend gevoel dat ek die skryfproses geniet – elke dag was ’n ervaring. Ek het besef dat as dit vir my lekker was, dit lekker kan wees vir elkeen wat dit lees,” het Reza oor haar roman vertel (Rooi Rose, 1 November 1995). Die hoofkarakter is Mathilda, wat amper nooit praat nie; en die verhaal speel, soos haar dramas, in die verlede op die platteland af.

Reza se volgende drama, Drie susters twee, word gepubliseer nog voordat dit vir die eerste keer opgevoer is, en die uitgewers se vertroue in haar word beloon toe dit in 1997 met die Hertzogprys bekroon word. Robert Mohr was van mening dat Reza gebore was om Tsjechof te speel. Sy vertel aan Wilhelm du Plessis in De Kat van Julie 1997 dat sy later een van Tsjechof se tekste gedoseer het, maar eers nadat sy besluit het om Drie susters twee te skryf. Sy het ook die regie van Tsjechof se Die kersieboord behartig.

Marthinus Basson het die gedagte teenoor haar uitgespreek dat daar ’n opvolg van Tsjechof se Drie susters moet wees. In teenstelling met die trae ontkiemingsproses van haar vorige dramas het die prikkeling wat sy uit navorsing opgedoen het, onmiddellik deel van haar geword tydens die wordingsproses van Drie susters twee. Vir die storie van Drie susters twee het sy meer as twee jaar gewag. Vir haar was die navorsingsproses ’n sonderlinge reis: “Op een manier het ek hier in Grahamstad gebly, en op ’n ander manier was ek in Rusland van voor die revolusie.” Om die reis volmaak te maak, het sy na simfonieë geluister, omdat Tsjechof se stukke ’n simfoniese komposisie het. Sy is ook terdeë daarvan bewus dat sy nie vir Tsjechof kan namaak nie. “Niemand kan hom namaak nie. Dis die uniekheid van Tsjechof.” Die doel van die drama was eerder om ’n interteks met Tsjechof se stuk te skep, sodat sy op hierdie wyse haar eie musiek kon hoor en aspekte van haar eie kreatiwiteit so kon ontdek.

In ’n onderhoud met Gabriël Botma (Die Burger, 10 April 1997) nadat sy gehoor het dat sy die Hertzogprys gekry het, sê Reza: “Ek het drie jaar daaraan gewerk, en gewag om te sien wat gebeur met die karakters. Dit is iets wat ek moes doen en het my nie angstig gemaak nie. Dit het natuurlik tot my deurgedring. Soos die tyd verloop het, het dit duidelik by my opgekom. Ek het dit geniet, en daar was geen wroeging soos met ander dramas nie. [...] Dit is seker omdat Tsjechof se werk so goed aan my bekend is. Dit het my onderskraag. Ek het baie geleer van hom.”

Phil du Plessis (Die Burger, 9 April 1997) skryf dat De Wet die atmosfeer van Tsjechof se styl meesterlik behou: "’n effe verloopte elegansie getemper met absurditeite, en oppervlakke wat soms net rimpelings wys van die menslike struweling wat daaragter woed."

Die rede waarom sy soveel meer betrokke gevoel het by die karakters van Drie susters twee as by haar ander dramas, is dat sy glo dat sy in ’n familie grootgeword het wat eerder soos Tsjechof se karakters tekere gaan as dié wat sy in haar Afrikaanse stukke gebruik, vertel sy aan Paul Boekkooi (Beeld, 29 Augustus 1998). “Ek het altyd gedink dat as ek my familietipes in my Afrikaanse stukke sou sit, sal niemand dit glo nie, hul temperament sou nie geloofwaardig wees binne ’n Afrikaanse milieu nie.”

Tydens die Nasionale Kunstefees in Grahamstad in 1998 span Reza en Marthinus Basson vir die sewende keer saam met die opvoering van Yelena, wat deur die Staatsteater aangebied word. Dit was Reza se eerste Engelse stuk sedert 1990. Dit kan beskou word as ’n opvolg op Tsjechof se Oom Wanja, maar dit is ook geheel en al selfstandig en berus nie op kennis van Tsjechof se stuk nie. Dit fokus op die tussenpersoonlike dramas van ’n klein groepie mense wat aan mekaar verbind is deur daardie mees verbysterende menslike emosie, die liefde.

Oor hoekom sy Yelena in Engels geskryf het, vertel Reza openhartig aan Paul Boekkooi: “Jy sou kon dink dat ek dit in die taal wou skryf wat vir die meeste Suid-Afrikaners toeganklik sou wees. Dit sou natuurlik ’n goeie rede wees, maar ongelukkig is dit nou nie waar nie. Ek werk te subjektief en ek is te selfsugtig om my oor sulke dinge te bekommer.

“Dis eintlik ’n baie eenvoudige storie: ek het onder prof Robert Mohr aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Hy het Tsjechof in Afrikaans vertaal en was baie bekend met die dramaturg. Onder hom het ek aan die Yelena-karakter in Uncle Vania (in Engels) gewerk. Hy was toe baie gelukkig met my en het aan my gesê ek’s ’n gebore Tsjechofiaanse aktrise. Toe’t hy gesê ek moet ook aan Sonia werk... en ek het begin verstaan hoe hard sy vroeg-oggend dra aan die emmers, hoe haar hande voel.

“Toe ek later ’n oudisie vir Truk doen, het ek besef dat dié twee karakters heeltyd en volledig by my gebly het. Toe ek aan hulle dink, het hulle Engels gepraat en dis hoekom ek dié stuk in Engels wou skryf, al besit dié taal nogal radikaal ’n ander musikaliteit, ander ritmes.”

Yelena speel agt jaar later as Uncle Vania af, en Boekkooi het begin wonder of die karakter Yelena intussen ’n vrolike weduwee geword het, want sy was immers met die afgetrede prof Serebriakof getroud ... Reza het lag-lag geantwoord: “Sy is ’n weduwee, maar vrolik is sy nie. Sonia en Astrof is intussen getroud, maar die ander karakters se agtergronde het min verander en daar word eintlik nie juis na hulle verwys nie.”

Een van Reza se sterkste invloede by die skryf van Yelena was die diepere studie wat sy van Tsjechof se kortverhale gemaak het – "stukke wat haar aan haar keel gegryp het weens die donkerheid wat Tsjechof skep en die intense ervarings wat jou by die lees daarvan aangryp. Om dié rede veral speel die vier bedrywe van Yelena feitlik almal laat in die aand of nag af. Elkeen beeld ook ’n krisis van een of ander aard uit, en is meer alleenstaande. Sy beken dat sy haar in Yelena effens meer losgemaak het van Tsjechof as dramaturg as met Drie susters 2. Yelena as persoon het ook nou meer iets van ’n vampier in haar, is eksoties, gevaarlik en verleidelik.

"Sy’s dus heeltemal anders as die beskermde, stil, op-haar-plek vrou wat Tsjechof self in Uncle Vania uitgebeeld het.”

In 2003 word die Engelse vertaling van Drif, getiteld Drift, by Grahamstad opgevoer met regie deur Caroline Benamza van die Amandla-teatermaatskappy.

Reza se drama On the lake wat in 2001 by Grahamstad opgevoer is, sluit aan by van haar vorige belangstellings, naamlik ’n bemoeienis met die teatermedium en in die besonder ’n gesprek met Tsjechof. Herman Wasserman berig dat die Tsjechof-tema van haar Drie susters twee en Yelena in On the lake voortgesit word deur die karakters van Tsjechof se Die seemeeu in te span. Die stuk bespiegel verder oor die karakters en die gebeure in Tsjechof se verhaal en weef ’n digte teks wat meer vrae as antwoorde bied. Net soos Mirakel ontgin On the lake ook die krag van verbeelding en die toweragtigheid van die verhoogspel.

In 2004 skryf Reza Breathing in in opdrag van Rhodes vir die universiteit se eeufees. Dit is opgevoer met die samewerking van die Grahamstad-stigting en het tydens die Kunstefees op Grahamstad gedebuteer. Daarna is dit na die Baxter in Kaapstad, en word sodoende die eerste stuk van Reza wat in die Baxter opgevoer is.

Die stuk het ’n nou verband met Nag, Generaal en Reza sê aan Dorothea van Zyl (Beeld, 6 Julie 2004) dat die ooreenkomste tussen die stukke haar amuseer. “Dit is dieselfde generaal met dieselfde wond in dieselfde stal. Daar is ook ’n adjudant, maar hy het ’n ander naam. Daar eindig die ooreenkomste, maar dit is wel plesierig om ’n eie teks as interteks te gebruik. [...] Die oorlog word egter in Breathing in meer as tevore ’n raamwerk. Eintlik kan die gebeure hulle enige tyd op enige plek afspeel. Dit gaan nie om die realiteit nie, maar om die botsing tussen die twee wêrelde.” Die opdrag was vir ’n Engelse stuk, omdat dit bedoel was vir ’n internasionale gehoor en Engelstalige alumni. “Die hele stuk bly egter vir my Afrikaans en is eintlik in twee tale geskryf – ek hoor die generaal steeds Afrikaans praat. Die feit dat die stuk in Engels is, beklemtoon vir my wel die onwêreldse en metaforiese, die feit dat dit nie letterlik vertolk moet word nie, maar eerder universeel wil spreek.”

By die Woordfees op Stellenbosch in 2005 word Reza se drama Verleiding opgevoer met Antoinette Kellerman en Heike Gehring, en Marthinus Basson as regisseur. Hierdie stuk gaan oor Eugène Marais en veral oor sy onpeilbaarheid. Reza vertel aan Gerrit Brand (Die Burger, 3 Maart 2005) dat die konstruksie in konsentriese sirkels is om sy geheimsinnigheid oor te bring. “Dis deels openbaring, maar ook versluiering, ’n grensverlegging van feite en fiksie, en dit skep ’n ongemaklike spanning.”

In 2005 is Reza verantwoordelik vir die teks van Gary Gordon se dansdrama The unspeakable story en skryf Thys Odendaal in Beeld die volgende: “Reza de Wet se teks is ekonomies en prontuit, ontdaan van die opgeblase, niksseggende clichés wat ons eietydse danswerke so treiter.”

Tydens 2006 se Aardklop Kunstefees in Potchefstroom debuteer Reza se stuk Broers. Die drama is in 2006 deur Oberon in Engeland uitgegee onder die titel The brothers en handel oor ’n nag in die lewe van Tsjechof en sy broer Alexander. Hulle stry ná die dood van hul middelste broer, Kolja. Reza wou nooit gehad het dat dit opgevoer moes word nie, maar Marthinus Basson het volgehou en sy het toe die stuk heeltemal in Afrikaans herskryf. Sy vertel aan Kobus Burger (Beeld, 14 September 2006): “Die oomblik toe ek dit oorskryf, het dit gevoel of die karakters gelukkiger is in Afrikaans. Ek het gevoel asof die Tsejchof-familie gelukkig voel.”

Anna-Retha Bouwer (Beeld, 28 September 2006) skryf in haar resensie van die opvoering: "Dit word ’n universele ontleding van familieverhoudings, veral tussen broers. En ondanks al die donker elemente en temas is daar ook baie ligter oomblikke wanneer die ironie van die situasie jou in jou vuis laat giggel."

Op ’n vraag oor watter persoon sy die graagste sou wou ontmoet, antwoord Reza: “Ek sou graag die skrywer Anton Tsjechof wou ontmoet. Hy is ongelukkig jonk dood, maar ek was nog altyd verlief op hom. Op dertig was hy die mooiste man op aarde. Sy tekste het ’n betowerende aantrekkingskrag – ’n mens kan sy teenwoordigheid daarin voel. Dis hoekom ek so lief is vir sy werk. (...) Tsjechof het ’n fyn humorsin gehad, maar sy werk is nooit sinies nie. Hy sien die donker kant van die lewe, maar daar is altyd ’n mate van stralende vreugde.”

In 2008 is Reza terug by Aardklop met haar drama Blou uur, waarin sy weer eens sterk vrouekarakters uitbeeld. Die regie word deur Marthinus Basson gedoen. Die Verteller (Aletta Bezuidenhout) het haar hare laat perm en word opeens besoek deur herinneringe of drome van haar Aunt Celeste. Of is dit maar net die spook van Aunt Celeste wat weer begin loop het?

Volgens Kobus Burger (Beeld, 4 Oktober 2008) skets Blou uur ’n idilliese verlede; ’n tyd toe ’n hoofpyn gemaak het dat jy die gordyne dig toetrek en vir die res van die dag in die kamer lê. “Blou uur is soos fyn porselein. Dit is ’n meesterlik geskrewe teks waarvan elke woord en handeling akkuraat en met gevoel geweeg is. Dit sleur ’n mens mee in die fynste nuanses, sonder om te ‘blou’ of swaar te wees. In der waarheid is Blou uur eintlik ’n komedie van formaat. Oorspronklik en sekuur. [...] As daar ooit iets soos ’n perfekte Afrikaanse drama in teks én opvoering sou kon wees, staan Blou uur voor in die ry.”

Reza het hierdie drama in vier maande voltooi. Sy vertel dat dit alles met verlange begin het – verlange na haar ouma se huis in die Oos-Vrystaat wat sy moes verkoop, en verlange na haar kinderdae. “Ek het oor bekende dinge geskryf. Ek het nog nooit voorheen oor so ’n wêreld wat só bekend aan my is, geskryf nie. En tog was dit vir my baie moeilik. Ek het so vervleg geraak in die saak; so verdiep. Dit het pynlik geraak om daar uit te kom.”

Blou uur is, volgens Mary Dreyer, een van die aktrises daarin, “pure Reza: ’n bietjie eksentriek, ’n bietjie mal, maar op ’n goeie manier; en die mans in haar stukke is mos altyd onvoldoende.”

Blou uur is met die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys vir die beste nuwe oorspronklike verhoogteks bekroon en Marthinus Basson met die Beeld-Plus-Aardvark-prys vir grensverskuiwende werk vir die stelontwerp van Blou uur.

Blou uur is ook by die KKNK van 2009 op die planke gebring. Hier is dit aangewys as die beste produksie op die fees en is Reza vereer met ’n Spesiale Kanna vir Vernuwende Denke.

Reza se samewerking met Marthinus Basson kom ’n lang pad. Van hom sê Reza dat geen regisseur so ’n gevoel vir vorm het nie. “Hy hou ’n wonderlike balans tussen die skeppende moontlikhede van ’n stuk en die dissipline van struktuur.” In ’n tydskrifonderhoud sê sy verder: “Ek vind baie diep aanklank by hom, want op ’n manier verstaan hy my werk beter as ekself. Dit wat hy met die stukke doen, is soos ’n tweede skeppingsproses. Wanneer sy visie en my visie bymekaar uitkom, word iets heeltemal afsonderliks gevorm.” Verder sê sy dat sy rolbesetting iets is om van te droom. “Hy het ’n fyn gevoel vir styl. Ons verstaan mekaar op ’n komplekse vlak.”

Marthinus Basson beskryf Reza as ’n verkleurmannetjie van ’n dramaturg. “Sy kyk na die wêreld met die helderheid van ’n vergrootglas, en die groteske poëtiese verbuiging van ’n pretparkspieël. Sy sien humor in tragedie en verdorwenheid in ’n gelag.”

In 1996 was Reza een van drie Suid-Afrikaanse dramaturge wat na ’n internasionale dramakongres genooi is om van hulle werk voor te lees. Sy vertel aan Marietjie Coetzee dat sy uit al haar dramas voorgelees het, maar veral uit Nag, Generaal. Daar was besonder baie belangstelling in haar werk en sy kry aanhoudend briewe van toneelgroepe uit Engeland om haar werk op te voer.

Maar dit is eers vanaf 2000 dat Reza regtig haar stempel ook internasionaal afdruk. Die Britse uitgewer Oberon het aangekondig dat ’n Engelse vertaling van haar trilogie Trits: Mis, Mirakel, Drif uitgegee gaan word as Missing, Miracle en Crossing. ’n Verhoogproduksie van Drif (Crossing) het in 2001 in Hammersmith, Engeland op die planke verskyn en afsonderlike produksies van Missing en Miracle is vir April en Mei 2001 in Engeland beplan. Three sisters 2 is op BBC Radio uitgesaai en in Maart 2001 op BBC World Service. Vertalings van haar werk word in België, Frankryk, Italië, Hongarye, Spanje en Japan beplan. The brothers, A Russian anthology: Three Sisters two, Yelena and On the lake, Plays Two (African Gothic, Good heavens, Breathing) en Plays One (Missing, Crossing, Miracle) is almal alreeds deur Oberon in Londen gepubliseer. In Februarie 2009 is Reza se stuk Three Sisters deur die Koreaanse teatergroep Changpa in die Arko Arts Theater in Seoel op die planke gebring.

Reza is baie lief vir tuinmaak en haar tuin verskaf haar groot genot. Sy moet net sorg dat sy haar groot strooihoed opsit. En omdat sy met die hand skryf, kan sy enige plek skryf, selfs in die tuin. Aan Madeleine van Biljon (Die Burger, 18 Mei 1994) vertel sy dat sy veral daarvan hou as iemand anders die blomme plant waarvan sy hou. Sy is ook ’n vergaarder. Sy besit haar ouma se dagboeke van 1930 tot 1979, terwyl sy baie van haar ma se versameling oudhede geërf het. “Ek gebruik alles wat ek het. Ek is nie ’n glaskas-persoonlikheid nie.” En sy mis haar ma baie. Sy het Mis en die res tydens haar moeder se siekte en dood geskryf. “I used it to transform and transcend death. Al die opvoerings was wonderlik. Marthinus Basson het ’n nuwe betekenis aan my lewe gegee; ’n nuwe verhouding gesien en verstaan op ’n volkome ander manier.”

Reza erken dat sy iets het oor huise. Sy het in ou huise grootgeword en hulle huis op Grahamstad was vroeër deel van ’n isolasiehospitaal. “Ek het al baie gewonder oor ons huis, waar daar baie siekte, dood en smart moes gewees het. ’n Mens sou dit nie vandag agterkom nie, want die plek het ’n lekker gevoel. Ek is lief vir my huis en my goed. Iets met ’n geskiedenis trek my altyd aan, want jy ken nie sy hele storie nie,” vertel sy aan Ina Duvenage in Sarie.

In 2007 het Reza se alma mater, die Hoër Meisieskool Oranje, die Reza de Wet-tienertoneelfees ingestel. Die skool het daarmee begin om aan tieners die geleentheid te bied om die professionele verhoog te beleef. Sedert 2009 vorm dit deel van die Volksblad-Kunstefees, of Vryfees, soos dit tans bekend staan.

2011 was die 25ste herdenking van Reza se loopbaan as dramaturg. En in daardie jaar verskyn Reza vir die eerste keer in twintig jaar op die verhoog. Haar nuwe drama, Die see, met haar man Lindsay Reardon as regisseur, het tydens daardie jaar se KKNK gedebuteer. Ná die vertoning was Reza se reaksie: “Ek het van voor af eindelose respek vir die kuns van toneelspel – dit verg intense konsentrasie en energie. Dit is ontsettende harde werk. Eenvoudige dinge, soos om woorde te memoriseer, was vir my moeilik omdat ek so lank gelede in ’n stuk gespeel het.” (Volksblad, 26 Maart 2011)

Voor hierdie optrede was haar laaste optrede by die Markteater in Johannesburg, waar sy ook in een van haar eie toneelstukke, A different light, gespeel het. Sy en Lindsay het daarna besluit om die teater opsy te skuif nadat hulle in 1982 na Grahamstad verhuis het en vir Nina gehad het. “Dit was moeilik om betrokke by die toneelwêreld te bly in ’n klein dorpie soos Grahamstad.”

Reza en Lindsay het egter saam besluit dat Die see hul projek sou wees. “Ons wou een van Reza se toneelstukke vir onsself hê,” verduidelik Lindsay, “en het besluit dat ek die regie sou behartig en sy daarin sou speel.”

Annelisa Weiland het ook ’n hoofrol in Die see gespeel. Hieroor het Lindsay opgemerk dat dit baie interessant was om saam met Annelisa te werk, aangesien sy sóveel ervaring het. Oor Reza het Annelisa gesê dat dit wonderlik was om saam met Reza te werk, aangesien sy ’n wonderlike aktrise is en presies weet wat sy wil hê.

Oor die ontstaan van Die see vertel Reza aan Willemien Brümmer: “Aanvanklik wou ek hê Die See moes meer swaarwigtig wees as my vorige stukke. Ek onthou toe ek as kind saam met my ma en ouma in die kasteel was en hulle gepraat het oor die slawe. In die Donker Gat onder in die Kasteel het ek begin skree.”

Sy vertel hoe die drie slawekarakters in Die See hulle aan haar “verklaar” het. “Ek was ontsteld omdat hulle so swaarkry en hulle in hierdie omstandighede bevind, en omdat ek dan nou sáám met hulle moet gaan bly.

“Eers wou ek ’n sosiaal-historiese politiese element inbring. Ek het gevoel die onderwerp verdien baie ernstige aandag, maar hoe meer ek dit gedoen het, hoe meer het die karakters heeltemal belang verloor in my.”

Ná ’n lang stryd moes sy besef sy was “te heilig oor die onderwerp”. Dat sy maar net kan skryf soos sy kan skryf. “Eers toe ek dit self begin geniet, het die karakters sommer land en sand begin praat. Ek het besef hulle vertrou my net omdat ek nie probeer wees wat ek nie is nie.”

Tog, met al hulle geween en gekerm, het die drie slawevroue haar siek gemaak. “Met dié een was ek maande lank in die ontsettendste pyn, ek dog ek word mal, en die dokter en die mense sê daar’s niks met my rug verkeerd nie. Ek moes hier op die vloer slaap, en toe kom daar wragtig ’n rot verby my gehardloop een nag. Donker tye.”

Donker tye, en dis winter en sy gooi die stuk in die vuurherd en pak hom met kole toe. “Gaan weg!” Mirakelagtig maak niemand vuur nie. Die stuk lê twee maande lank onder die steenkool, en Reza lê in die bed. Uiteindelik gaan sy na ’n chiropraktisyn. “Sy’t gesê die werwel tussen my bekken en my ruggraat is heeltemal uit. Dis asof die skryf my fisiek aantas, my verwring.”

Kort hierna sien Reza ’n grys oor van ’n oefeningboek wat by die kole in die herd uitloer. “Ek trek hom aan sy oor uit en ek lees hom ’n bietjie, maar ek voel sommer my rug word seer en ek gooi hom in die snippermandjie. Mina, wat een keer per week kom, het hom drie keer uit die snippermandjie gehaal en dan sien ek hom daar op die bank lê. Toe ek hom die derde keer sien, dink ek wragtig, ek moet nou maar kyk wat daar aangaan.”

Op LitNet skryf Sandra Troskie dat Die see op die oog af ’n geskiedkundige drama is wat in die tyd van die laaste jare van die Nederlandse bewind aan die Kaap afspeel. “Drie slawevroue word saam in een van die kelderkamers van die Kasteel opgesluit. Al drie is opgeleide courtisanes van dieselfde man (die goewerneur van die Kaap?). Daar is die Ou Vrou wat sy eerste was, die Vrou wat in die proses is om vervang te word en die Meisie wat as sy jongste beoogde speelding die Vrou gaan vervang. (Die oudste vrou (gespeel deur Annelisa Weiland) was een van sy eerste speeldinge. Reza het die een gespeel met wie hy pas klaar was en Chiminae Bell was die jongste appel. Hulle praat oor vergange skoonheid, die ou dae en hoe hulle lewe was voordat hulle ontvoer is vir die kaptein se ‘harem’.

“Die Britse inval van die Kaap in 1795 veroorsaak egter dat ’n dag verloop tussen die eenkant smyt van wat afgeleef en uitgedien geraak het en die toe-eiening van wat nog jonk en maagdelik is.

“Soos wat die drama in die skemerige kelder ontvou, is dit egter gou duidelik dat hierdie verhaal meer is as slegs ’n historiese verhaal oor die gedeelde lot van drie slawevroue aan die Kaap. Op ’n dieper vlak transendeer hulle gesamentlike ervarings hul individualiteit, sodat hulle uiteindelik drie verskillende fases van dieselfde wese, die slaaf-courtisane, verteenwoordig.

"In hulle hoedanigheid as Ou Vrou, Vrou en Meisie herinner hulle sterk aan die konsep van die goddelike essensie van vrouwees in haar manifestasies as Meisie/Moeder/Wyse Ou Vrou (Maiden/Mother/Crone). Binne dié Neopaganistiese konsep verteenwoordig die Meisie die sluimerende maagd, simbolies van die betowering van dít wat nog onaangeraak is. Die Vrou, die volgende groeifase in ’n vrou se lewe, simboliseer groei, vrugbaarheid en vervulling. Ten laaste is daar die fase van Ou Vrou, simbolies van kennis, wysheid en, onafwendbaar, die dood. (...)

“Maar indien die doel van hierdie drama (alleen) ’n blik is op die verontmensliking en ontgoddeliking van veral die slaaf-courtisane, verklaar dit nie heeltemal waarom De Wet in haar titel so ’n sterk prominensie gee aan ’n fenomeen wat deur die loop van die hele drama slegs op die agtergrond funksioneer nie. Trouens, die invloed van die see op die drie vroue is deurgaans eerder indirek as direk te bemerk: wanneer die Ou Vrou droom van ’n skip wat oor sy waters vaar of van seesand wat deur haar kinderhuis waai; wanneer die Vrou met nostalgie dink aan die beperkte uitsig wat sy deur die venster van haar vorige kamer daarop gehad het; wanneer die Meisie na haar begeerte verwys om deur die tuin tot by die seemuur te loop, daarop te klim en dan af te spring (die see in). Benewens hierdie enkele verwysings weet ons van die nabyheid van die see slegs vanweë die aanhoudende slaan van sy branders teen die mure van die kelder.

“Dit is dié onsigbare (en effens misterieuse) teenwoordigheid van die see wat ’n mens laat vermoed dat die betekenis wat De Wet met haar keuse van ’n titel aan die see toeken, dalk vanuit ’n ander perspektief verstaan moet word. Dat die see binne hierdie drama waarskynlik verteenwoordigend is van wat Jung die kollektiewe onderbewussyn genoem het; daardie plek waar ons ewig aan ons voorgeslagte verbind is. ’n Plek van waar die vroue letterlik weggeruk word wanneer hulle vir hulle meester se harem kom haal word. So afgesny is sy van hierdie goddelike oorsprong dat die Vrou verklaar dat sy niks onthou ‘van die armsalige plek waar ek eers was nie. My regte lewe het eers hier begin. Hier in die Kasteel.’

“Interpreteer ’n mens die teks vanuit Jung se perspektief, is die drie vroue dus aspekte of argetipes wat saam die self vorm. Die self, so het Jung geglo, is daardie goddelike aspek wat ons met die kollektiewe onderbewussyn – die groter geheel – verbind. Die drie vroue se stryd in die kelder (’n vertrek wat tradisioneel die argetipe is van die persoonlike onderbewuste) raak die worsteling van die self om al hierdie aspekte weer in haarself verenig te kry en so, deur middel van ’n wedergeboorte, uiteindelik te kan terugkeer tot die geheel, iets wat aan die einde wel gebeur wanneer die Ou Vrou oënskynlik sterf en dan weer in die arms van die Meisie (die argetipiese simbool van wedergeboorte) haar bewussyn herwin.

“Die feit dat De Wet feitlik al haar karakters naamloos hou, versterk die gevoel dat hulle eerder argetipiese fasette van ’n enkele wese is as aparte karakters. Slegs die Meisie kry ’n naam. Trouens, De Wet laat die drama met dié naam begin en verleen só definitiewe betekenis daaraan: ‘Marie! Marie! Ek wag al lank vir jou. Waar bly jy?’ Wanneer Marie die Ou Vrou letterlik uit die lappe bevry, skep dit ’n beeld van ’n gemummifiseerde kadawer wat bevry word.

“Deur die naam Marie aan haar kollektiewe karakter te gee, het De Wet die essensie van hierdie ‘self’ dalk ook gekoppel aan die karakter van Maria Magdalena. In Joan Norton en Margaret Starbird se boek The Mary Magdalene Within word daar onder meer betoog dat die verwondheid van ons moderne samelewing die gevolg is van ’n sisteem van patriargale denke en handeling en dat ons ons samelewing en onsself daarom sal kan genees slegs indien ons – vroue sowel as mans – weer met ons ‘heilige vroulikheid’ (sacred feminine) in aanraking kom.

“Wanneer die Ou Vrou dus aan die einde van die toneelstuk waarskynlik ’n hartaanval kry (dalk selfs ’n naby-dood-ervaring het) en uiteindelik weer haar oë in die arms van die Meisie oopmaak, vra dié haar betekenisvol: ‘Dit is ek, Marie. Ken jy my?’

“Deur haar keuse van ’n titel vir hierdie drama het De Wet dus op vernuftige wyse ’n vraag geskep wat haar leser/gehoor dwing om na ’n antwoord te soek; ’n soektog wat ons uiteindelik die slaaf-courtisane in elkeen van ons laat ontdek: daardie geneigdheid om helde en gode te maak van mense en dinge; valse gode wie se asems, as ons na die kind in onsself luister, stink na vrot en dood,” volgens Troskie.

Reza het gesukkel met Die see: “As jy nie absoluut deur ’n stuk werk nie, is daar oorgange waarmee jy sukkel, en jy moet baie fyn op die spoor bly van almal se emosionele reise. En ja, hoe meer ek geskryf het, hoe meer het ek besef hoe moeilik die verhoog as medium is. Dit dryf my soms tot raserny!”

Sy wou graag hê dat die stukke soos die feëverhale moet wees wat haar ma as kind vir haar gelees het. “Ek wil iets deel met ’n gehoor wat hulle gaan laat voel soos ek destyds gevoel het ... bang of miskien effens betower. Ek wil hê hulle moet vorentoe sit en mooi luister, en dan sou my ma skielik iets hards sê. Dis steeds asof my ma vir die gehoor sprokies vertel.

“En as ’n mens nou speel in jou eie stuk, en dit gaan goed – veral as daar nou ’n groteske komiese element in is – dan praat jy so direk met die gehoor. Jy’s déél van die verhaal, en jy kan sommer besluit hóé bang jy hulle wil maak.”

Nadat sy Die see klaar geskryf het, het Reza besef hierdie is haar laaste stuk, sy is klaar geskryf. “Dit is heeltemal onverklaarbaar. Ek kán nog skryf en ek wíl nog skryf; daar is dinge wat my interesseer. Daar’s ’n stuk waarmee ek môre kan begin – maar jy weet, daar’s ’n diep intuïtiewe deel van my, en dit het al ’n hele paar keer met my gebeur, wat vir my sê iets is klaar, ek moet dit los.”

Daar was nog ander teatervorme waarmee sy wou eksperimenteer, maar baie vlugtig. Soos sy vir Willemien Brümmer gesê het: “Want as jy nou hard perd gery het – en vir my voel dit of ek hard toneel geskryf het – dan stop jy nie sommer skielik nie. Jy moet jou perd koudlei en afborsel en so aan.”
Reza de Wet se Breathing In is deur Marthinus Basson vertaal as Asem en debuteer by die KKNK in 2017.

Op 27 Januarie 2012 is Reza in haar slaap in haar huis op Grahamstad aan leukemie oorlede nadat sy in Oktober 2011 daarmee gediagnoseer is. Die laaste paar maande het sy nie meer haar telefoon beantwoord nie. Twee niggies het haar help versorg. Haar man, Lindsay Reardon, en haar dogter, Nina van Schoor, en twee kleinkinders het haar oorleef.

Huldeblyke

• Pieter Fourie: "Reza de Wet was vir die Afrikaanse drama wat Elisabeth Eybers vir die Afrikaanse poësie was – iemand met ’n ongelooflike talent, maar beskeie en stil daaroor. Sy was die volmaakte teaterwerker – van aktrise tot lektrise, regisseur en dramaturg. Reza de Wet was die Suid-Afrikaanse literêre wêreld se mistieke figuur. Haar een bruin en een groen oog was van die elemente wat aan haar ’n beeldskone, geheimsinnige voorkoms gegee het. Dié voorkoms kon in ’n sin verder gevoer word na elemente in haar werk, soos die dualisme daarin." (Die Burger, 28 Januarie 2012)

• Nico Luwes: "Reza kon met die magiese realisme omgaan soos geen ander dramaturg nie. Ek het drie van haar dramas opgevoer, en wat uitstaan – behalwe die uitsonderlike gehalte van die teks – is haar perfekte teateraanwysings. Jy hoef niks by te voeg nie. Ek kon in haar werk die ritme aanvoel waarteen ’n drama gespeel moet word. Sy was vriendelik, deur die blare, en iemand wat ure na iets soos ’n hoender se oog kon sit en kyk." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Marthinus Basson: "Hoewel die dood die een ding is waar almal moet deur, bly dit, met goeie rede, die een ding wat onwerklik voel, ’n skim wat ons op ’n afstand hou deur ons daaglikse omgang met beuselagtighede. En in my geval, die heerlike skanse van die verbeelde wêreld wat ons teater noem. Die klein wêreld wat ons kan beheer en boetseer na verlange. Die wêreld wat Reza de Wet so ryk gemaak het vir my in omvang en betekenis. Altyd met humor en musikaliteit, met die terugroep van karakters-nou-vergete uit ’n verlore wêreld wat jongmense deesdae, ironies genoeg, as volksvreemd sou ervaar.

"’n Wêreld so ryk aan besonderhede en tekstuur, ’n legkaart van klein menslike interaksie wat deur elke kennismaking my ryker agtergelaat het. Sy het só baie aan my toevertrou. My so baie geleer oor menslikheid, medemenslikheid, oor obsessie en onderdrukking, oor vryheid en waar om daarvoor te soek. En oor bloot die wonderlike kompleksiteit, sowel as absurditeit, van mense en die lewe.

"Dankie vir ryk speelgeleenthede vir akteurs. Dankie vir wonderlike vrouerolle. Dankie vir regie-uitdagings. Dankie vir die tekstuur wat jy aan ons klein Afrikaanse dramaliteratuur verleen het. Dankie vir ’n ongelooflike bydrae tot toneel. Dankie dat jy jou hartsgoed aan ons toevertrou het. Dankie dat jy ons ’n geleentheid gebied het om ons kuns deur jou werk te kon beoefen en bearbei. Dankie dat ons kon groei deur die omgang met jou werk. Dankie vir die uitdagings en dankie vir die plesier." (Die Burger, 3 Februarie 2012)

• Wilma Snyman: "Sy het ’n besonder sensitiewe aanvoeling vir die menslike psige en vir mense se omstandighede gehad. Sy het ook die mistieke dinge van die lewe verstaan en het dit so fyn hanteer en met groot insig daaroor geskryf. Sy het ’n ongelooflike bydrae gemaak, sy was so talentvol en spesiaal." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Annelisa Weiland: "Sy was ’n unieke en besonderse mens en stem en ons gaan haar baie mis." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Marietjie Coetzee-Malan: Dit was van die begin af duidelik: hier is skitterende skryf- en toneeltalent, ’n vermenging van die sprokiesagtige en die makabere wat toneelganger en leser begogel. Ek kon tóé al die uitkoms van die vele bekronings voorsien. Dit was hierdie magiese en dikwels bykans groteske kwaliteit van haar werk wat my as uitgewer en mens van die begin af gegryp het. En ek kon nooit weer loskom nie. Keer op keer het sy die stryd van die menslike gees om bevryding op ’n ander, donker manier uitgebeeld.

"De Wet het haar karakters liefgehad en hulle begin mis nog voordat sy hulle klaar geskryf het. Sy was bang hulle kom iets oor. Sy het hulle as snaaks, amusant, treurig, skrikwekkend, pateties, tragies en eienaardig beleef; hierdie mense wat deur die kamers, gange en deure van haar werk beweeg.

"Sy het met alles in ’n boek inbeweeg. Haar werk het ’n eie musiek gehad – variasies op temas – soms eenvoudig, soms kompleks, altyd meesleurend. Haar toneelaanwysings had feitlik ’n lewe van hul eie. Dit verdien op sigself navorsing. Sy het my baie laat lag en dikwels geskok met haar pikswart humor. Maar soms het sy gesê: 'Wees my oë. Ek is asof ek blind is'.

"Ek onthou dat ons een laatnag ná een van haar bekronings verdwaal en naby die Kaapse hawe beland het. Ons het na ’n eetplek gesoek, want ons was te senuagtig om voor die tyd te eet. Sy het ’n lang purper fluweelgewaad aangehad en sy het in die halflig soos een van haar sprokiesagtige karakters gegloei. Ek was betower en het gewonder of sy dalk soos ’n Chagall-wese op die punt was om in die lugruim in te sweef, toe sy sê: 'Ja, ou Marietjie, en hier staan ons op die hawe op-gedress soos twee high class-hoere en vrek van die honger'.” (Die Burger, 3 Februarie 2012)

• Roux Engelbrecht: "Sy het ’n sonnige karakter gehad, asook lojaliteit met veral ’n fynbesnaardheid. Sy hét ook ’n donker kant gehad, maar dit het sy vir haar skryfwerk gelos." (Beeld, 28 Januarie 2012)

• Chris Barron: "Most of her plays had sombre, sinister, gothic undertones with touches of magical realism or, as the British actress, Susannah York, an admirer of her work, put it, the 'mysterious and strange'. In Missing the only evidence of a character is a disembodied voice coming from a loft from which a bucket of excrement is lowered. This undoubtedly dark side of De Wet’s nature may or may not have had something to do with the fact that she was related, on her mother’s side, to the tortured poet, naturalist and morphine addict Eugène Marais, who wrote The Soul of the White Ant and The Soul of the Ape before committing suicide.

"It was a side that found expression in her writing, not her everyday life. To those who knew her she displayed an unfailingly sunny disposition and a capacity to see humour in most things. She was always seeing stories in ordinary events and the lives of ordinary people. Like her favourite playwright, Anton Chekhov, she felt a compulsion to explore these supposedly ordinary events and lives in her work, always probing for hidden undercurrents where she felt the truth usually lay." (Timeslive, 15 Februarie 2012)

• Johann de Lange:

Na ’n idee van Charlotte Mew
(vir Reza de Wet)

Ek onthou vele vertrekke,
& elkeen speel sy part
in die stadige verstilling
van die sigsag van die hart. (Johann de Lange se blogspot)

• Leon Rousseau: "Ek was baie verlangs deur ’n huwelik aan Reza verwant. In haar 59 jaar het ek haar seker minder as 10 keer in lewende lywe gesien. Tog voel dit asof ek ’n ou vriendin verloor het. Sy was ’n liewe mensie met ’n wonderbaarlike humorsin. Ons verwantskap loop via Eugène Marais, met wie ons albei ’n besonderse band gehad het. Marais se vaderfiguur, senator Charles Marais, het op Boshof in die Vrystaat gewoon. Ná die dood van sy seun, ’n bekende Vrystaatse dokter, is dié se weduwee, Freddie, met my broer Pierre getroud. Freddie het toe reeds ’n enigste kind gehad. Sy was Tawtie en is later getroud met regter Gannie de Wet van Bloemfontein. Reza was hul dogter.

"Toe ek ongeveer ’n halfeeu gelede begin navorsing doen vir Die groot verlange, my boek oor die lewe van Eugène Marais, het sowel Freddie as Tawtie my baie gehelp. Pas nadat ek die manuskrip in 1974 voltooi het, het Reza, destyds ’n 20-jarige student, by ons in Kampsbaai kom oorbly terwyl ek oorsee was. Terwyl sy daar was, het my oudste seun, Chris, destyds 15, my studeerkamer vir haar gewys.

'Onmiddellik was ek woedend,' sou sy 24 jaar later vertel. 'Kwater as nog ooit in my lewe. Daar’t papiere op die lessenaar gelê. Ek wou alles opskeur, alles vernietig. Toe vra ek vir Chris: ‘Wat doen jou pa hier?’ en hy antwoord ‘Hy’t ’n boek oor Eugène Marais geskryf.’

"'En net toe ek oor die drumpel stap en by die kamer uitgaan, was ek nie meer kwaad nie. Dit was vir my so vreemd, ek meen gewoonlik bly ’n mens mos darem ’n rukkie kwaad. My woede is net so afgesny.'

"Hierdie storie veronderstel blykbaar dat sy onbewus as medium of kanaal gebruik is vir oorlede Eugène Marais se (hipotetiese) wrewel oor my boek. (Veral weens my onthullings van sy verslawing aan morfien.)

"In Augustus 1998 was ek besig om te werk aan Die dowwe spoor van Eugène Marais, ’n poging om feite in Die groot verlange te ondersoek waaroor daar onsekerheid was. Ek besluit toe om Eugène Marais se Bybel weer op te spoor ingeval dit leidrade bevat wat ek vroeër misgekyk het. Op Sondagoggend 30 Augustus praat ek onder andere met Gannie (regter HS) de Wet in Bloemfontein. Die Eugène Marais-Bybel het weggeraak, sê Gannie. Reza het ’n Bybel, maar dis die familiebybel, nie Marais se Bybel nie.

"In haar huis in Grahamstad voel Reza de Wet olik. Teen dié tyd was sy reeds ’n beroemde dramaturg. Skielik, om 12:20, terwyl ek met haar pa praat, hoor sy ’n stem in haar kop. Dit is een van my kinders, wat vir haar sê: 'My pa sê altyd dit doen hom goed om ’n bietjie in die son te sit.' Sy hoor nie net die stem nie. Sy sien die huis in Kampsbaai, waar sy 24 jaar tevore was. Sy volg die stem se raad en gaan sit in die volle lenteson. Toe, 10 minute later, bel ek haar.

"Reza het dikwels gesê sy is heldersiende, maar sy probeer dié vermoë nie bevorder nie, want dis ’n ongemaklike gawe om te hê. Nadat sy my vertel het van haar woede in Kampsbaai soveel jare gelede, neem ek my kans waar en vra haar wat sy dink van die hipotese dat Eugène Marais op bonatuurlike wyse verantwoordelik was vir my byna noodlottige motorongeluk in 1963, toe die vernaamste navorsing agter die rug was en ek net aan die boek wou begin skryf.

"'Dis seker moontlik,' sê Reza. 'Ek sal daaroor moet dink.' Sowat ’n maand later bel sy. Sy sê sy het die vorige dag met ’n Jungiaanse psigiater gesels oor die medium-moontlikheid. Dié sê dit is natuurlik moontlik. Mense wat selfmoord pleeg (veral só) en hul woede teen die skepping teen hulself laat draai, dwaal dikwels nog hier op die aardse vlak rond en kan dan nog intens in die lewendes belang stel. Mens hoef nie sélf heldersiende te wees om te vermoed dat daar donker dieptes in Reza was nie. Sy was egter te bedagsaam om ander daarmee op te saal.

"In 2006 het ons in Grahamstad saam geëet. Sy was vrolik en onderhoudend, met heelwat ligte selfspot. Ek onthou haar lag as 'rinkelend'. Ná die ete neem sy my in ’n vreeslike ou skedonk na my blyplek. 'Dis mos nie reg dat Lady Godiva op ’n afgeleefde ou donkie ry nie,' merk ek op. Enkele dae later bel sy om te sê die diep gekrenkte skedonk het twee dae ná die ete selfmoord gepleeg deur te ontplof.

"Dit was die laaste keer dat ek haar gesien het. Ek mis haar. Slaap gerus, liewe Reza." (Rapport, 5 Februarie 2012)

• Betta van Huyssteen, oudredaksielid van Volksblad in Bloemfontein: "Ek en Reza is albei op Senekal gebore. Ek onthou goed die mooie kind wat by haar oupa en ouma op die dorp kom kuier het. Ek was op universiteit, oud genoeg om die Engelse se woord fey met die betekenis van 'feeagtig' aan haar te koppel. Een aand, ná ’n optrede van dramastudente, vergaap ek my weer aan die driemanskap van ouma, ma en dogter – tannie Freddy Europees chic, tannie Toti met ’n sigeuneragtige skoonheid en die fyne Reza.

"’n Klasmaat van Reza, Reynette Brink, beskryf haar as enigmaties, maar ongelooflik talentvol. Hulle moes in die sweet van hul aanskyn hul punte verdien, maar Reza was meer afwesig as teenwoordig. Kom die eksamen het Reza se ma net notas van haar klasmaats gefotostateer en dan doen sy beter as hulle. Soos Brink sê, sy het net 'haar eie tromspeler se ritme gevolg'. Iewers het almal geweet nog ’n betekenis van fey, naamlik gesigte-siende, is dalk van toepassing.
Reza kon dalk altyd iets anderkant ons werklikheid sien en dit het in haar werk gestalte gekry. Sy is in 1998 as die Oud-Kovsie van die jaar bekroon en in Die Bult van September sê sy self: 'Soms praat ek hardop. Soms weet ek nie of ek dit in my kop hoor nie. Ek hoor altyd my dialoog hardop. Ek hoor dit in karakter. Ek skryf soos hulle praat ...' en 'Dit voel vir my soos ’n soort magiese proses. ’n Effense alternate state'.

"Nog ’n betekenis van fey het waar geword, naamlik bestem om gou te sterf. Dit maak egter nie meer saak nie, want die ander werklikheid, die alternate state, het haar en haar ouers omvou." (Volksblad, 3 Februarie 2012)

• Temple Hauptfleisch: "Among the very best playwrights to emerge in South Africa over the past century or more, and certainly one of the foremost of her generation, Reza de Wet had an extraordinary record as a creative artist over the past 25 years, and contributed immensely to the stabilisation and enrichment of South African theatre in its passage from a theatre of protest and propaganda to one of contemplation and healing. Not only did she provide the South African canon (and the Afrikaans literary canon in particular) with some of its best plays, but her impact on theatrical form and style has been equally significant – for her role in re-establishing the formally written and serious playtext as a central element in both the theatrical process and the literary canon can hardly be overestimated.

"De Wet – soft-spoken, enigmatic – was never a public figure, but an artist who required of her work to speak for itself, which it did and still does, most eloquently and convincingly. A quiet belief in the power of her ideas and words permeates and enriches all her work and the result has been more than a dozen plays of complex subtlety, which challenge directors and audiences alike while exploring the vagaries of being human and of being South African. They are unique, individualistic works which make no concessions to the demand for declamatory directness and simplicity that characterised the more politicised and improvisational work of the 1980s. They catered even less to the demand for formula-driven escapist entertainment which arose after the political changes in the 1990s, and then spilled over into the kind of “instant culture” which to a large extent dominated the festival-driven theatre world in the first decade of the new millennium. It is a legacy we can and must treasure, particularly now that the prime mover is no longer with us." (South African Theatre Journal, 2012)

• Saartjie Botha: "Playwright Reza de Wet was publicity shy. And because she was so comfortable in life with the paranormal, I suspect she is still shy now that she has to listen to eulogies. Words thus must be chosen wisely. For me as a young playwright, she was the ultimate, not only in terms of the standard of her work, but also in the way she handled her artistry. (...) I asked her once about the most important quality a young playwright should have. Her response was simple and clear: understand the space on stage. Before she started writing, she said, she thought for weeks about the space on stage. About the magical. And don’t ever write if you don’t have an idea, she added archly.

"A shy flower (skugter skaam-blom), Basson once called her. Reza had an old world charm, a vulnerability, and an untouchable magical quality. She was cheerful and laughed often, usually at herself." (Cape Times, 3 Februarie, 2012)


 

Ná haar heeltemal te vroeë afsterwe het Reza en haar werk nie in die vergetelheid verval nie. Daar gaan bykans nie ’n jaar verby wat daar nie een van haar dramas in een of ander vorm op die planke gebring word nie – hier en oorsee.

In 2002 is Reza se Drie susters twee in Richmond in Engeland se Orange Tree Teater opgevoer saam met Tsjekov se Drie susters. Dit was die première van Reza se stuk in Engeland.

Charles Spencer, die resensent van The Telegraph, het as volg oor die produksie en oor Reza geskryf: "De Wet is South African (her play was originally written in Afrikaans), and she identifies with the Chekhovian theme of loss and dispossession 'as a privileged Afrikaaner standing on the threshold of far-reaching socio-political reform'. But her greatest gift is fully to inhabit Chekhov's characters and to create a play that combines wit with deep feeling."

Reeds in 2009 het die Reza de Wet Tienertoneelfees sy debuut by die Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein gemaak en gaan dit van krag tot krag. Skole van oor die hele land word elke jaar genooi om aan die fees deel te neem.

In 2013 het die dramadepartement aan Rhodes Universiteit Drifting aangebied as die department se gradedag-produksie. Dit het ’n intieme blik gegee op die lewe en werke van Reza de Wet. Die direkteur Rob Murray het gesê dat hulle gekies het om te fokus op die eteriese en misterieuse kwaliteit van haar werk.

Murray was ’n student in Reza se Kreatiewe Skryfwerkklas en beskou haar as iemand wat sy eie skryfwerk skerper gemaak het. Die studente het in beide die geskrewe en verbale vorm bydraes gelewer tot die huldiging.

Dit het begin met ’n lektor wat Reza de Wet met haar swakhede aan die gehoor bekendstel. Hy ontdek dan dat sy weg is en dan begin die soektog na haar gees met behulp van choreografie, poppekas en kunsstukke wat almal tematies aanmekaar skakel. In essensie dryf dit alles deur haar werk. Met hierdie kontemporêre raamwerk maak die spelers gebruik van magiese realisme wat so ’n sentrale deel van De Wet se werk gevorm het.

"We didn’t want to make a variety show that amalgamated her works,” het Murray verduidelik, “but rather to create a dream world that she would approve of and into which the audience can escape. It’s our way of giving tribute and saying goodbye to her memory.”

Ook in 2013 het die filmweergawe van Diepe grond met die titel African Gothic by die Durban Internasionale Filmfees gepremière en in 2015 is Missing in die Baxter op die planke gebring. Vir hierdie verwerking het Mdu Kweyama die drama uit sy Afrikaanse idioom en agtergrond geneem en dit geplaas in ’n universele milieu. “The young director brings more physicality to De Wet’s poetic writing. The magical-realist play about a young daughter’s escape from her dysfunctional rural family brings women who are trapped and scared into the spotlight. How far will their fear take them?

“I was looking for the ‘right’ text that would also allow me the scope to combine text and dance or physical movement. Added to that it was important to consider something that was relevant in contemporary South Africa,” verduidelik Kweyama aan The next 48 Hours.

“Reza de Wet’s script grabbed me from the outset; the images she conjures with the words and subtexts. Women who are trapped, scared or missing, do not only apply to one particular community. It is relevant to most communities in this country and many other countries in the world, for that matter. So I could make it universal and that is very exciting for me."

By die US Woordfees van 2017 is Drif in die Fismersaal opgevoer met Mari Borstlap as die regisseur. André Roothman, Ira Blanckenberg, Cintaine Schutte en Jane de Wet was die akteurs in die stuk. Borstlap het op LitNet aan Naomi Meyer vertel dat sy van skool af ’n bewonderaar van Reza de Wet en haar dramas was: "Ek dink dit is die magiese realisme en die wonderlike sterk vroue karakters in so te sê al haar werk wat my besonder aantrek. Ek het Drif vir die eerste maal iewers in my vroeë twintigs gelees en ek het onmiddellik gewéét as die tyd reg is sal ek graag die ikoniese werk wil opvoer. Dis ’n donker drama met soveel lae. Ek vind die teks baie sensueel, dalk selfs eroties by tye, en dit het my ook gelok om aan die woorde lewe te gee."

In 2018 was die vertonings van Reza se Crossing in die Crave Theatre in Portland in Oregon, Amerika teen die einde van die speelvak uitverkoop.

Publikasies

Publikasie

Diepe grond

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1990

ISBN

  • 0798622229 (hb)
  • 0798630515 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

AA Mutual-prys 1985/1986

Vertalings

In Engels vertaal as African Gothic

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vrystaat-trilogie

Publikasiedatum

1991

ISBN

079863071X (sb)

Uitgewers

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Rapport-prys 1991
  • CNA-debuutprys 1992
  • Hertzogprys (saam met Trits) 1994
  • Vita-toekennings vir al drie tekste

Vertalings

Engels deur Steven Steadman

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Trits: Mis, Mirakel, Drif

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798634375 (sb)

Uitgewers

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Hertzogprys (saam met Vrystaat-trilogie) 1994
  • Fleur du Cap-toekenning 1994
  • Vita-toekennings 1994/1995

Vertalings

Missing, Crossing en Miracle deur Steven Steadman vir Oberon

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stil Mathilda

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798135115 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie susters twee

Publikasiedatum

1996

ISBN

079813657X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Hertzogprys 1997
  • Vita-toekenning 1998/1999

Vertalings

Three sisters two

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die see

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869195205 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Reza de Wet en haar toneelstukke beskikbaar op die internet

 Biografiese artikels

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Reza de Wet (1952–2012) appeared first on LitNet.

Antjie Krog (1952–)

$
0
0

Gebore en getoë

Anna Elizabeth (Antjie) Krog is op 23 Oktober 1952 in Kroonstad gebore, die oudste van vyf kinders van Willem Krog, ’n boer van die plaas Middenspruit, en die bekende Afrikaanse skryfster Dot Serfontein. Antjie se oupagrootjie, Danie Serfontein, was parlementslid vir Kroonstad ná die Anglo-Boereoorlog.

Sy vertel aan Anet Pienaar-Vosloo (Taalgenoot, winter 2015) dat om te skryf, iets is wat in jou gene is en dit is net soos om te skilder of musiek te maak. In hulle huis het haar ma vir hulle baie gelees. "Ons het met boeke in die hand grootgeword. En omdat ons ’n huis van storievertellers is, gaan almal baie graag huis toe. Vir my kinders is dit ’n heerlike, onvervangbare opwinding om ‘die ooms’ en hul stories te beleef. Ons maak ’n groot vuur en dan vertel ons. Twee van my broers en my suster woon nog op Kroonstad. Almal is boekmense. Ek kry nie dieselfde bevrediging uit ’n digitale boek nie. Ek word woedend as mense van boeke en boekrakke skielik ornament-uitstalrakke maak.”

Toe Antjie in standerd 9 (graad 11) in ’n Afrikaanse klas van fonologie geleer het, was dit asof daar ’n lig vir haar opgegaan het: "Die feit dat elke klank ’n plek en beskrywing het. Skielik kon ek verstaan waarom ’n sin soos ‘Ek sal vir Israel wees soos die dou’ vir my mooi is. Dis die aanvanklike stemlose ritseling van die s’e wat dan uitloop in die stemhebbende plofklank van die letter d. Die d wat dan skielik stem het, verleen ontsettende krag en dus verrykende betekenis aan die woord dou.”

Antjie het een suster en drie broers. Sy matrikuleer in 1970 aan die Hoërskool Kroonstad.

As agtienjarige skoolmeisie skryf sy: "Gee vir my ’n land waar swart en wit hand aan hand / vrede en liefde kan bring in my mooi land." Dié gedig waarin dié woorde verskyn, asook ander gedigte, word in haar skool se jubileumblad gepubliseer en veroorsaak ’n groot ophef landwyd in die koerante.

Verdere studies en werk

In 1971 gaan Antjie na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), soos dit toe bekend gestaan het, en studeer BA met Afrikaans en Nederlands, Engels en Wysbegeerte. Tydens haar studentejare dien sy op die redaksie van Irawa en Shimla, twee studentekoerante. Na die verkryging van haar BA-graad behaal sy ook ’n honneursgraad in Engels in 1976 aan UOVS. In 1983 voltooi sy haar MA-graad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof AP Grové. Die titel van haar verhandeling is Familiefigure in die poësie van DJ Opperman.

Na ’n kortstondige huwelik met die pianis Albie van Schalkwyk tree sy in 1976 in die huwelik met John Samuel, ’n argitek en ’n jeugliefde van haar. Hulle het vier kinders en is ook al grootouers van twee dogters, van wie een Antjie se name geërf het.

Antjie gee onderwys by ’n bruin hoërskool in Kroonstad en in 1993 verhuis die gesin na Kaapstad, waar Antjie aangestel word by die tydskrif Die Suid-Afrikaan. Sy bedank in 1995 by Die Suid-Afrikaan nadat sy aangestel word as politieke verslaggewer by die SAUK en dra haar redakteurskap aan Sandile Dikeni oor.

Vir langer as twee jaar (1996 tot 1998) doen Antjie verslag van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Aanvanklik is sy slegs deel van die span, maar later voer sy die radiospan aan. Antjie het ook in ’n Nederlandse publikasie, Nieuw Wereldtijdschrift, verslag gedoen oor die WVK onder die titel "Brief uit Kaapstad". Hierdie blootstelling aan die WVK en die trauma wat daarmee gepaard gegaan het, veroorsaak dat sy geestelik en fisiek ineenstort. Sy besef dat sy ’n anker nodig het en vind dit deur “al die seer, verdriet en woede en haat wat dag na dag uitgestort is” neer te pen in Country of my skull, wat in 1998 gepubliseer is. Sy skryf dit aanvanklik in Afrikaans, maar vertaal dit later saam met Ivan Vladislavic. In 1999 bedank sy as politieke redakteur by die RSG, want sy glo sy kan nie dig as radiojoernalis nie.

Dit is met Country of my skull dat Antjie haar merk op die internasionale mark maak. Sy ontvang in 2000 die Year 2000 Award van die Hiroshima Foundation for Peace and Culture vir haar bydrae tot waarheid en versoening in Suid-Afrika. In 1999 word die boek ook eervol vermeld in die Noma-toekennings. Antjie ontvang in 1996 die Buitelandse Korrespondente-prys vir uitmuntende joernalistiek vir haar artikels wat in Mail & Guardian verskyn het. En ook in 1996 word sy en haar span bekroon met die Pringle-prys vir uitmuntendheid in joernalistiek vir hulle dekking van die verrigtinge van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. In 1999 deel sy die Alan Paton Award for Non-fiction met Stephen Clingman en ontvang Country of my skull ook die South African Booksellers’ Choice Award. Hierdie eer val haar weer te beurt in 2004 toe A change of tongue ook die toekenning ontvang. Country of my skull word in 2001 met die Olive Schreiner-prys bekroon.

Country of my skull word in New York, Londen, Milaan, Denemarke en Nederland gepubliseer. Dit word verfilm met die titel In my country met Juliette Binoche en Samuel L Jackson in die hoofrolle, maar die film word nie so goed ontvang soos die boek nie.

Maar lank voordat Antjie Country of my skull geskryf het, maak sy indruk as een van die beste digteresse in Afrikaans. Na die oproer wat die publikasie van haar gedigte in haar hoërskool se jubileumblad veroorsaak het, word haar eerste digbundel, Dogter van Jefta, in 1970 gepubliseer, toe sy maar agtien jaar oud was. Dit bevat gedigte wat die omgewing van die skoolkind beskryf – adolessensie, muisneste en die unieke agtergrond van die skool met sy klaskamers en leerkragte. JC Kannemeyer (Beeld, 22 Oktober 1992) skryf dat “'n Bybelse gegewe as beeldraamwerk gebruik word en dit is geskryf in ’n eenvoudige praattoon met die afwesigheid van hoofletters, interpunksietekens en tradisionele strofiese vorme en rym.”

In 1972 verskyn Januarie-suite en ontvang Antjie die Eugène Marais-prys vir haar eerste twee bundels. Januarie-suite beleef in 1987 ’n sewende druk – iets wat amper ongehoord is vir ’n digbundel in Afrikaans. Teenoor haar eerste bundel wat primêr oor die skool gehandel het, beeld Januarie-suite die lewe van die student op die universiteitskampus uit met liefde as die motief. Die konservatorium en musiekterminologie is deel van die verwysingsraamwerk en die meer uitgebreide wêreld van die Vrystaat is meer op die agtergrond (JC Kannemeyer, Beeld, 7 Mei 1992).

In 1977 word Mannin en Beminde Antarktika, wat albei in 1975 uitgegee is, met die Reina Prinsen-Geerligsprys bekroon. Hierdie prys is ingestel om Nederlandse vroue en dogters wat hul lewens in versetbewegings teen Duitsland in 1940–45 verloor het, te gedenk. Sedert 1952 word die prys elke drie jaar aan ’n Suid-Afrikaner toegeken.

In hierdie twee bundels bekyk Krog die lewe van volwasse vrou voor sy getroud is, sowel as na haar huwelik. In Mannin verskaf Kaapstad die agtergrond, maar veral die vrou met haar liefde vir haar eggenoot en hulle huwelik word uitgebeeld.

“Siklus” is die titel van die tweede afdeling van die bundel en hier kan die leser die getroude paar se lewe saam, vanaf die die eerste nag saam, tot deur die geboorte en vroeë jare van die kind, volg. Die laaste twee verse in die bundel druk hierdie “huislike geluk” vir JC Kannemeyer (Beeld, 7 Mei 1992) baie mooi uit. Vir hom kan “Siklus” vergelyk word met Die stil avontuur(1939) van Elisabeth Eybers, waar die jong getroude vrou se geluk en haar moederskap aan die orde van die dag is.

In 1981 publiseer Antjie Otters in bronslaai. Oor die bundel skryf Carina Stander (Die Burger, 29 Mei 2010) as volg: “Die bundeltitel word deeglik in die verse ontgin: die otter as skugter waterdier; die bronstige otterjasie (vark) wat seksuele vernielsug simboliseer; die bron as fontein, oorsprong, moederliggaam of verwysingsdokument.

“Die slotsiklus in die bundel, ‘Die Leeu en die Roos’, is dan ook ’n helder voorbeeld van ’n historiese geskrif wat as bron vir digterlike inspirasie dien. Dit is gebaseer op die dagboekinskrywings van die Voortrekkervrou, Susana Catharina Smit (1799-1863), suster van die Groot Trek-leier, Gert Maritz. Op dertienjarige ouderdom word sy deur haar ma aan eerwaarde Erasmus Smit (34) gegee. As gevolg van sy drankprobleem (“tussen sy tande blits sy asem ’n spoor/van ontbinding”), word hy telkens deur die sendinginstituut verplaas. Teen 1837 sluit hulle by die Trek aan. (…)

“Die openingsin in die gedig “6. Pietermaritzburg – 6 Augustus 1863” lui: ‘Vannag reeds sewe keer wakker./ Die onderskeid tussen droom en kamer/ word al hoe swakker.’ Elders in die gedig vra sy: ‘Here, maak die visioen aan my bekend . . .’ Sy verklaar ook: ‘God dryf my . . .

“In teenstelling met haar intieme Godsbelewenis, is daar haar huwelik met Eerwaarde: ’n swakkeling wat ontrou was aan haar. Daar is ’n botsing tussen haar ongelukkige gesinslewe en begeerte om te skryf: ‘Wat baat ’n gesin sonder aptyt; ’n man en kind/ wat al my woorde aan die hakskeen byt?’ 

Steeds skryf sy vir selfbehoud en reiniging: ‘die pen in my hand/ is styf en ek skryf hom nuut’. En: ‘Ek het woorde snags/ geskryf wat soos blare suurstof gee,/ sodat ek kon bestaan/ en niks giftigs agter ooglede verberg . . .’ (…)

“In die gedigtereeks word Smit getransformeer van slagoffer tot pionier. Dié transformasie bereik ’n hoogtepunt tydens ’n toespraak voor kommissaris Henry Cloete wanneer sy die legendariese verklaring maak dat die vroue kaalvoet oor die Drakensberg sal stap vir vryheid en reg. Krog eggo dit in die slot: ‘om myself kaalvoet uit te skryf/ teen hierdie brons geskubde Drakensberg’.

“Regdeur haar oeuvre maak Krog gebruik van uitruilbare identiteit: Jefta se dogter, Lady Anne Barnard, Antjie Somers. Wanneer sy by monde van Smit praat, verteenwoordig sy die Afrikanervrou wat veg vir vryheid, geregtigheid, eerbaarheid en kreatiewe uitlewing. Die vraagstukke rondom geslagtelikheid, die selfopoffering en dapperheid van die vrou as moeder, volksfiguur en skrywer en die strewes van die individu teen ’n patriargale stelsel, is kenmerkend van Krog én Smit se skryfwerk.”

Jerusalemgangers (1985) word in 1987 met die Rapportprys bekroon. Die bundeltitel speel in op ’n groep “sweepsiekes” wat deel is van die Trekkers, maar wat geglo het indien hulle aanhou om noorde toe te trek, hulle uiteindelik Jerusalem sal bereik deur oor die land te trek.

M Nienaber-Luitingh skryf in Die Burger van 13 Maart 1986 dat een van die kenmerke van Jerusalemgangers is dat dit nie meer so outobiografies is nie en dat daar by die digter ’n behoefte is “om te kyk na die ruimer konteks van die Suid-Afrikaanse - veral blanke burgerlike - samelewing. Naas talle mooi poëtiese vondste vertoon Jerusalemgangers nog ’n hele aantal van die swakhede wat ons uit Antjie Krog se vorige bundels ken, soos die neiging tot ’n soms onnodig verwronge sinsbou en die gebruik van onduidelike neologismes. Die treffendste gedigte in die bundel is dié wat die persoonlikste van aard is en daardeur die digste aansluit by haar vroeëre poësie, veral by Otters in bronslaai wat nog die hoogtepunt in haar werk verteenwoordig.”

In 1990 ontvang Antjie die grootste een – die Hertzogprys vir Poësie – vir Lady Anne, ’n digbundel wat in 1989 deur die destydse “ondergrondse” uitgewery Taurus gepubliseer is. Die laaste publikasie van Taurus wat met die Hertzogprys bekroon is, was Yk van Breyten Breytenbach en hy het die prys geweier. Daar is derhalwe bespiegel of Antjie die prys sou aanvaar, maar sy het. Sy vertel aan Beeld (21 April 1990): “Soos ek vir prof Elize Botha gesê het, aanvaar ek die prys, want dit bewys nou onomwonde ek en die Akademie het mekaar na weerskante toe besmet. Die feit dat die prys die naam dra van ’n man wie se politieke sieninge lynreg ingaan teen dit waarvoor ek my daagliks beywer en waarin ek glo, ontstel my nie. Ek het sekerlik nie die prys gekry op grond van my politieke oortuiginge nie, maar dat ek dit wel gekry het ondanks dit, sê vir my iets. Ek is in der waarheid bly oor die politieke agtergrond van die prys.”

Prof Elize Botha, destyds voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, het gesê Lady Anne “is pragtige poësie in die post-modernistiese idioom. Dit word visueel ondersteun deur ander elemente, wat nie poësie is nie, om ’n pragtige boodskap oor te dra.”

Louise Viljoen skryf in haar resensie van Lady Anne (Die Burger, 28 Desember 1989): “Tot dusver het elke nuwe bundel van Antjie Krog haar groei as digter bevestig. Met die verskyning van dié bundel is dit weer eens die geval en word dit ook duidelik dat sy een van die belangrikste digters is wat tans in Afrikaans werk. Lady Anne is nie net ’n bundel wat die leser se bewondering afdwing vanweë sy virtuose kompleksiteit nie, maar ook vanweë die opwinding wat die aktuele aanbod en inhoud daarvan wek. Interessant genoeg word die aktualiteit in die bundel bewerkstellig deur die gebruik van ’n historiese figuur, Lady Anne Barnard. Krog gebruik hierdie vrou met haar sonderlinge geskiedenis as reisgenoot terwyl sy haar eie tyd en ruimte, Suid-Afrika vandag, verken.”

Die resensent in Beeld (onbekend, 18 September 1989) skryf dat betrokke digkuns dikwels “tegnies onbeholpe of poëties yl” kan wees, maar hierdie beswaar is nie van toepassing op Lady Anne nie. “Die bundel is ’n leesavontuur vir diegene wat hou van aktuele verse én ook vir die literêre speurder op soek na die verhulde en onverhulde interteks.” 

In 1995 verskyn Antjie se eerste roman, getiteld Relaas van ’n moord. In die vroeë 1990’s was Antjie in die koerante nadat daar ’n moord in haar tuisdorp, Kroonstad, was. Daar was beweringe van politieke beweegredes rondom die moord en Antjie was in die hof as staatsgetuie. Antjie gebruik hierdie gebeure as agtergrond vir Relaas van ’n moord

Fanie Olivier skryf in Beeld (4 Maart 1996): “Krog besweer die absolute betroubaarheid van haar storie deur vooraf te verklaar ‘Nie alles hierin is waar nie’, maar dit lyk my dat ’n mens dit maar met ’n knippie sout moet neem. Verdigsel het hierdie materiaal egter nie geword nie, bly heeltemal te feitelik relaas, sodat ’n mens gedwing word om met die leesslag ook te dink waarom die skryfster hierdie vertelling gemaak het. En een met so 'n lang aanloop wat weinig bydra binne die klein bestek van die boek ...

“Die verhaal speel hoofsaaklik af op Kroonstad, en grotendeels in die tydperk rondom en na die opheffing van die verbod op die ANC. Die hoofkarakter en verteller is die digteres A wat deur haar onderwyspos aan ’n swart skool en 'n vroeëre ontmoeting met swart skrywers by die Victoria-waterval, haar betrokke voel en maak by die lotgevalle van die buur-gemeenskappe. In hierdie proses raak sy vervreemd van die wit inwoners van die dorp, en haal haar hulle gramskap op die hals. Doodsdreigemente bly nie uit nie, en haar motor word die teiken van ’n suur- en spuitverfaanslag.

“Die ander sentrale figuur is die daar bekende Douglas Baartman, ’n bruin aktivis, hoewel daar nie juis van hom in die vertelling veel tereg kom nie. Dis jammer, want meer van hom sou iets meer van die novelle kon gemaak het. En dan is daar A se eggenoot, die argitek J, die karakter wat die sterkste uit hierdie verhaal na vore tree, en vir wie mens as leser die meeste empatie ontwikkel.

“Die verhaal ontplooi rondom die eerste maande van die bevryding, en die wyse waarop A in haar gewetenswroeging oor wat witmense in haar vel se naam gedoen het eenvoudig blindweg glo dat dit alles moet regverdig.”

Volgens die flapteks wil Relaas van ’n moord die leser forseer om “morele kwessies te laat rym met respek vir die lewe”, maar vir Fanie Olivier gebeur dit nie, want die etiese probleme waarmee A te kampe kry, word nie afdoende geteken nie. “Die verhaal (nie die gegewe nie) is gewoon te skraal sodat die vrae oor respek vir watter lewe of soort lewe nie bevredigend uit die verf kom nie. Miskien het me Krog ’n behoefte gehad om haar persoonlike dilemma uit te skryf, maar die publikasie van Relaas van ’n moord (met seker een van die lelikste bandontwerpe wat ooit by Human & Rousseau verskyn het) is ’n bewys dat die waarheid anders is as fiksie. En dat Antjie Krog haar waarskynlik moet bly besig hou met haar uitsonderlike talent as digter.”

Antjie se Engelse digwerk word ook bekroon – sy ontvang die FNB-Vita Poetry Award in 2001 vir Down to my last skin en die beoordelaars se kommentaar is dat hierdie gedigte nie as vertalings lees nie, maar as skeppings uit eie reg. Hierdie bundel is ook in Afrikaans gepubliseer as Kleur kom nooit alleen nie. Die Afrikaanse bundel word eweneens bekroon, en wel met die eerste RAU-Prys vir Skeppende Skryfwerk.

Oor Kleur kom nooit alleen nie skryf André P Brink op die flapteks: “Hierdie bundel is vir my in poësie die ekwivalent van Bach se groot Toccata en Fuga, waar die ganse register van die orrel oopgetrek word ... Dis een van die min bundels waarvan ek kan sê dat ek ná die lees daarvan werklik op ’n ander manier na die wêreld kyk” (Rapport, 15 Oktober 2000 in onderhoud met Hanlie Retief).

Dieselfde temas wat in haar ander digbundels was, kan ook in Kleur kom nooit alleen nieraakgelees word, naamlik verhoudings op verskillende vlakke: in die gesin, met kinders, met die landskap en met mede-Suid-Afrikaners. Aan Hanlie Retief: “Wat dit anders maak, is dat die landskap nie meer net Suid-Afrika is nie, maar die hele kontinent, en die stemme is nie meer net wit nie, daar’s ook ’n ander soort Afrikaans. Ek was verlede jaar saam met Breyten en ander Afrika-digters op die Poetry Caravan, ’n reis van die slawe-eiland Goree aan die Ivoorkus tot by Timboektoe in Mali. Op die reis het ek die mees afgryslike momente beleef, veral met kos, en ook die heel mooiste goed wat ek nog ooit kon beskryf het. Later eers het ek besef: dis eintlik wat ons is. Die aakligheid van hierdie vasteland, maar ook die ongelooflike, wonderlike ander kant, in landskap én in mense.”

Antjie vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 16 Oktober 2000): “Dis die mees onmiddellike manier waarop ek nog ooit geskryf het. Dinge wat ek waargeneem het, het dadelik op papier beland. Gewoonlik skryf ek eers ná die gewaarwording daaroor. Die reis het my ook laat vergeet van my teësin om voor ander mense te skryf.

“Ek vind dit phoney dat mense in die openbaar in kafees sit en skryf. Die eerste dag het ek gedink ek sou sterf as ek soos die ander digters my boek moet uithaal. Uiteindelik het ek my boekie onderlangs uitgehaal en ’n paar woorde geskryf. Teen dag drie het ek net so lekker soos die ander geskryf. Ek het hier ’n vrywording in die kontinent beleef wat nog nie voorheen gebeur het nie. Vir die eerste keer het my gedigte nie in afsondering gebeur nie.”

In 2003 word die bundel Met woorde soos met kerse, wat Antjie se Afrikaanse vertalings en herbewerkings van poësie uit al die ander Suid-Afrikaanse inheemse tale, en een van die San-tale, bevat, aangewys as die algehele wenner van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se driejaarlikse wedstryd. Antjie vertaal ook Long walk to freedom, die biografie van Nelson Mandela, in Afrikaans as Lang pad na vryheid. Die Nederlandse skrywer Henk van Woerden se boek oor Tsafendas, Mondvol glas, word deur Antjie vertaal as Domein van glasMamma Medea, ’n toneelstuk van die Belgiese skrywer Tom Lanoye, word deur Antjie vertaal en by Aardklop in 2002 ontvang die regisseur Marthinus Basson Beeld Plus se Aartvarkprys vir innoverende werk vir sy ontwerp en regie van hierdie stuk. Dit is dus nie vreemd nie dat Antjie tydens die KKNK in 2004 in ’n skrywersgesprek met Ingrid Winterbach, die Hertzogpryswenner, bepleit het dat die boek wat die Hertzogprys wen, as ’n gegewe in Engels vertaal moet word, sodat Afrikaanse skrywers deel kan word van die ander stemme in die land.

In 2013 vertaal sy Athol Fugard se The captain’s tiger as Die kaptein se tier en is dit tydens die Suidoosterfees in die Fugard-teater opgevoer met Neels van Jaarsveld in die hoofrol.

Antjie ontvang in 2009 saam met Richard van der Ross die ATKV-Prestigetoekenning tydens daardie jaar se KKNK.

Antjie se digbundel, Verweerskrif, wat terselfdertyd in Engels gepubliseer is as Body bereft, veroorsaak opspraak met ’n foto van ’n naakte, ouer vrou op die voorblad. Op 53 wou Antjie "skryf oor ’n leeftyd, oor ’n lyf wat haar irriteer én boei” (aan Willemien Brümmer, Die Burger, 2 Junie 2006). Byna veertig jaar na die verskyning van Dogter van Jefta draai haar gedagtes toenemend na haar liggaam, verál na die ligte beroerte in 2002.

Die Proteaprys vir poësie van 2007 word aan Verweerskrif toegeken. Oor die toekenning sê Antjie: “’n Digter skryf vandag in Afrikaans in die volle wete dat dit geen werklike statuur het nie. Jy skryf omdat jy móét en jy weet dat selfs ’n Afrikaanse rock band waarskynlik ’n groter omset as jy het. Dit is daarom dat ’n prys soos dié soos jasmyn in die voortuin is vroeg September … ’n Taal word as taal erken as hy die poëtiese kan uitdruk. ’n Taal begin taal wees in die stemme van digters. ’n Taal sonder digters is ’n sterwende taal: daarom is die bevordering, koestering, instandhouding en erkenning van poësie in Suid-Afrika en in Afrikaans belangrik.”

Vir Johann de Lange (Rapport, 16 April 2006) maak “Krog se vermoë om haarself telkens te vernuwe, om in haar bundels telkens ’n ander rigting in te slaan en vreesloos te waag, om nooit vir álmal aanvaarbaar of veilig te skryf nie, van haar een van die mees opwindende eietydse digters en een van Afrikaans se belangrikste stemme.”

Helize van Vuuren (Beeld, 17 April 2006) skryf dat in Verweerskrif “is die openbare sfeer teruggedring en feitlik volledig vervang met die private ruimte van die ouerwordende, menopousale vrou. Die sentrale tema in die bundel is die verweer en sterflikheid van die menslike liggaam, spesifiek die vroulike middeljarige liggaam, teenoor die ewigheid van die berg in die agtergrond: ‘méns-tyd’ teenoor ‘ewigheid’. Die titel dui dus op ‘’n teks oor liggaamlike aftakeling’, maar ook op ‘’n geskrewe verdediging teen ’n aanklag’.”

Wat tema en tegniek betref, vernuwe die bundel beslis, meen Van Vuuren, en is dit baie meer verwikkeld as wat binne die omvang van ’n resensie bespreek kan word.

Kwela-uitgewers publiseer in 2004 die digbundel Die sterre sê "tsau": Xam-gedigte in Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo. Dit haal die kortlys van die M-Net-prys vir poësie vir 2005. In 2006 beweer Stephen Watson, digter en ook hoof van die Universiteit van Kaapstad se Departement Engels, in die tydskrif New Contrast dat Antjie plagiaat gepleeg het. Hy beweer in die artikel dat Krog “die hele gedagte Die sterre sê 'tsau' van hom gesteel het sonder enige erkenning”. Antjie se kommentaar op hierdie aanklag is: “Dis ’n verskriklike ding omdat dit die heel belangrikste ding in jou lewe aangaan, en dis jou integriteit. Daar’s nie ’n manier wat jy dit kan herstel nie. As ek jonk genoeg was, kón ek. Maar ek kan NIKS daaraan doen nie.” (aan Willemien Brümmer in Die Burger, 2 Junie 2006)

Antjie se eerste en enigste toneelstuk, Waarom is die wat voor toyi-toyi altyd so vet? (1999), is onder andere by die Aardklop Kunstefees en by die Markteater in Johannesburg opgevoer met Marthinus Basson as regisseur en Nomsa Xaba en Tess van Staden in die hoofrolle.

Tess van Staden het in 1998 vir Antjie genader om vir haar ’n monoloog te skryf. “Teen my beterwete het ek ingestem. Ek het altyd gedink as ek weer ’n toneelstuk aanpak, sou dit ’n versdrama wees. Maar soms is ’n mens kreatief vasgekeer en sê jy ja vir iets. Dan pluk dit jou uit,” vertel sy aan Gert Coetzee (Volksblad, 1 Oktober 1999). “Dit is verstommend wat regisseur Marthinus Basson met die stuk gedoen het. Ek het die taal gegee, maar Marthinus het dit visueel laat gebeur. Hy red jou ondanks jouself en kry jou hebbelikhede (in die stuk) weggesteek.”

Antjie se oë was vol trane nadat sy Nomsa Xaba se “ontsluiting” van wit en swart mense se verhale oor die WVK gesien het. “En dis lekker dat daar 'n vet stuk poësie in die toneelstuk is,” sê sy aan Coetzee.

In 1979 word Antjie genooi om die NP van Wyk Louw-gedenklesing te lewer. Die titel van haar voordrag is "NP van Wyk Louw: die pad vorentoe". In 2004 word sy weer genooi om dié lesing te lewer by die Randse Afrikaanse Universiteit met die titel "Die beautiful woorde van Van Wyk Louw".

Antjie bevind haar vanaf die publikasie van daardie eerste gedigte op die voorgrond in Suid-Afrika en die akkolades bly nie uit nie. In 1986 vervaardig Carl Theunissen en André van den Heever ’n televisieprogram oor Antjie wat ’n ATKV-prys wen. In die laat tagtigerjare is sy een van die groep Afrikaanse skrywers en intellektueles wat deur Idasa na die Watervalberaad in Zimbabwe genooi is om met uitgeweke skrywers en ANC-lede te gesels. In 1989 lees Ahmed Kathrada, ’n eertydse gevange ANC-leier, ’n Engelse vertaling van haar gedig "My mooi land" voor op ’n massasaamtrek in Soccer City in Soweto. Antjie se verse het so ’n indruk op hom gemaak terwyl hy in die tronk was dat hy dit “gekoester" het en dit vir hom “moed gegee" het.

Antjie is nie iemand wat al ooit gehuiwer het om te sê wat sy dink en hoe sy voel nie. Dit is die rede waarom almal wat haar ken, haar eerlikheid en haar oortuiging om getrou te bly aan dit wat sy dink reg is, uitsonder. In 1987 het sy met Ton Vosloo, besturende direkteur van Nasionale Pers, gebots oor Dene Smuts se bedanking as redakteur van die tydskrif Fair Lady. In 1990 het sy by die Afrikaanse Skrywersgilde-beraad onder haar medeskrywers ingeklim oor die Gilde se apatie en dat Afrikaans van die Gilde bevry moet word. Tydens die funksie met die toekenning van die Boekjoernalis van die Jaar aan André P Brink in 2000 is Antjie die gasspreker. Sy bepleit in haar toespraak dat koerante hulle kunsblaaie ernstiger moet opneem, omdat daar “binne die kunste en kulturele verbande altyd meer ruimte bestaan vir bevraagtekening en begripvorming” (Beeld, 16 Oktober 2000). Tydens ’n simposium wat in 2003 aan die Universiteit van Stellenbosch gehou is oor die uitdagings waarvoor die NG Kerk in ’n veranderende Suid-Afrika te staan kom, sê Antjie dat Suid-Afrikaners van verskillende rasse mekaar nie ken nie. Die kerke moet mense help om nuwe verhoudings as gelykes te bou. En een van die maniere om dit reg te kry is dat die Kerk gesamentlike etes vir wit en swart moet reël.

In 1990 veroorsaak Antjie se aanstelling op die NG Kerk se Psalmkommissie opspraak. Sy dien in hierdie kommissie tot 1992 toe sy bedank as gevolg van te min tyd. In 1992 word sy genooi om saam met digters uit ander wêrelddele deel te neem aan die Poetry International-poësiefees in Rotterdam, ’n eer wat haar weer in 2004 te beurt val. In 2003 word sy genooi om die Internasionale Letterkundefees Winternachten in Den Haag te open met ’n orakelspreuk oor die toekoms van Afrikaans.

Antjie word in 2001 verkies tot die komitee wat ’n taalbeleid vir die Suid-Afrikaanse tersiêre sektor moet ondersoek. Die komitee was onder voorsitterskap van Jakes Gerwel en die ander lede was proff Njabulo Ndebele en Willie Esterhuyse en dr Nomsa Satyo.

Erkenning van akademiese kant bly nie agterweë nie. In 2002 ken die Tavistock-kliniek in Londen ’n eredoktorsgraad aan haar toe vir die bydrae wat haar werk tot die veredeling van wêreld-humanisme gelewer het. In 2004 ken beide die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad aan Antjie toe. Na afloop van die KKNK in dieselfde jaar word die Afrikaans Onbeperk se Kanna vir Vernuwende Denke aan haar toegeken. Ook in 2004 neem sy saam met die Nigeriese skrywer en akademikus Kole Omotoso deel aan ’n bespreking in die Sol Plaatje-diskoers. 2004 is ’n jaar van vele toekennings aan Antjie. Sy word saam met Coenie de Villiers en Gert Grobler deur die Kovsie-Alumnibond vereer en word benoem as Oud-Kovsie van die jaar. Die Universiteit van Stellenbosch verkies haar in 2004 tot die raad van dié universiteit en in dieselfde jaar word sy aangewys as Buitengewone Professor van Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

Tydens Exclusive Books se jaarlikse veiling by hulle tak in Hyde Park behaal ’n handgeskrewe gedig van Antjie, "Country of grace and grief", R3 700. Die gedig is opgeneem in Down to my last skin. Die gedig "Van litteken tot rivier" behaal R1 900.

Antjie se werke is al vertaal in Engels, Nederlands, Italiaans, Frans, Spaans, Sweeds en Serwies. Robert Dorsman vertaal van haar gedigte in Nederlands en gee dit in 1999 in die bundel Om te kan asemhaal uit. Country of my skull word aan universiteite in Amerika en Europa voorgeskryf as deel van die leerplan wat handel oor die optekening van die verlede.

Tydens die skryf van A change of tongue, wat in Afrikaans gepubliseer is as ’n Ander tongval, kry Antjie ’n ligte beroerte-aanval, maar sy herstel gelukkig feitlik heeltemal – iets wat sy glo toegeskryf kan word aan haar gereelde joga-oefeninge. ’n Ander tongval is deur Saartjie Botha omgesit in ’n toneelstuk met Nina Swart wat die rol van Antjie vertolk.

In 2006 onderneem Antjie ’n toer van ses weke saam met die Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Dit is aangebied deur Behoud de Begeerte, ’n onafhanklike kunsliggaam wat hom uitsluitlik beywer vir die bevordering van die Nederlandse/Vlaamse literatuur. Na die toer sê ’n Nederlandse vrou in Nederlands aan Antjie: “Dis die taal. Toe jy jou mond oopmaak, skiet die Afrikaans my deur die hart.” (Die Burger, 18 November 2006)

Antjie was in 2008 vir ’n jaar in Berlyn waar sy genooi was om die Wissenschaftskolleg zu Berlin – ’n sentrum vir gevorderde studie en navorsing – te besoek.

Sy vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 13 Maart 2009) dat haar kinders elkeen op hul eie vir haar in Duitsland kom kuier het: “Ek het Duits geneem op skool, maar my kinders ... Dit was eintlik vreeslik lekker om hulle in ’n ander kultuur in te vat. Daai goed is high culture: dis klassieke musiek, dis Wagner, dis Thomas Mann, dis Bertolt Brecht, maar dan daarmee saam is daar onder dit alles ’n sosialistiese mind-set van Berlyn wat jy die hééltyd oralster optel; die heeltyd funksioneer bevraagtekening, ondermyning en dan so ongelóóflik geartikuleerd! Ek meen jy kan nie ...

“Jy lees daai koerante en dan wil jy in tráne uitbars oor hoe ongelooflik ... of hulle nou praat oor die sokker of die budget of die opera of die Páse. Hulle hele analíse van Páse ... here en dan lees ek ... ek het nou Faust gelees, van Goe­the, en dan kýk jy daar en dan sien jy: here, hiérdie man het die bose al bevráágteken terwyl ons nog in ons f—n óssewaens rondgevál het in dié land! En dan dink jy g’n wonder ons is nog hier besig met evolusie nie. Ek kan dit nie verdúúr dat jy nie ...” Sy struikel oor haar woorde van verontwaardiging. “... hoe ... hoeveel jaar gaan daai debat al aan? Hy kóm nié genuanseerd nie. Hy ís net die heeltyd pateties gepolariseer, jy weet.”

Sy erken teenoor La Vita dat sy dink digters is nie vol selfvertroue nie. “... om ’n gedig te doen moet iets ékstra bykom; jy kan nie net talent hê en gaan sit nie. Daar moet iets anders gebéúr. En jý weet nie hoe om daai te láát gebeur nie. Dit hélp as jy baie skills het; dit hélp as jy ... álles help, maar dis nie noodwendig dat daar ... Terwyl as jy ’n taléntvolle prosaskrywer is en jy het die selfdissipline om te gaan sit, en jy doen móéite en jy wérk ... iéts gaan gebeur.”

Begging to be black word in 2009 uitgegee. Dit het as agtergrond die dood van ’n bendeleier wat in Kroonstad doodgeskiet is. Die moordwapen is op Antjie se stoep weggesteek. In Begging to be black begin Antjie om haar posisie in hierdie saak na te vors. Die boek vertak dan in verskillende rigtings, beide in tyd (van die dae van koning Moshoeshoe van Lesotho) en in ruimte, soos die leser op Antjie se ondervindinge naloop. Die flapteks beskryf Begging to be black as ’n boek van reise – etiese, geskiedkundige, filosofiese en geografiese reise. “These form strands that Krog interweaves and sets in conversation with each other, as she explores questions of change and becoming, coherency and connectedness, before drawing them closer together as the book approaches its powerful end. Experimental and courageous, Begging to be black is a welcome addition to Krog's own oeuvre and to South African literary non-fiction.”

Begging to be black is die derde deel van die trilogie wat voorafgegaan is deur Country of my skull en A change of tongue.

“Die boek bestaan uit drie verhale,” sê Antjie aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 14 November 2009). “Die een verhaal, die moordverhaal, is ’n terugkyk na ’n insident wat ek gedink het ek tóé moreel korrek hanteer het, en nou daaroor begin vrae vra.”

Die insident is die een waarvan in die vorige paragraaf geskryf is.

Die tweede verhaal is die geskiedenis van die Basoeto-koning Moshoeshoe I. “Die verhaal verwys na daardie eeue lange gesprek tussen wit en swart wat eintlik nog nooit ’n werklike gesprek was nie. Wit en swart het met mekaar gepraat en gedink hulle verstaan mekaar: Moshoeshoe het gedink hy verstaan die wittes en die wittes het gedink hulle verstaan hom, maar uiteindelik het hulle mekaar nie verstaan nie. Want hulle het gepraat vanuit verskillende raamwerke.”

Antjie gaan voort: “Die derde verhaal is my Europese verblyf en ervarings as ’n navorsingsgenoot in Berlyn. Daar het ek besef hoe mense die wêreld vanuit verskeie ‘raamwerke’ beoordeel.”

Antjie se volgende digbundel is ’n Engelse een met die titel Skinned wat in 2013 deur Umuzi en Seven Stories Press in Amerika uitgegee is. Hierdie bundel bevat gedigte uit tien van Antjie se gepubliseerde bundels wat ’n tydperk van dertig jaar dek. Dit verteenwoordig haar totale loopbaan as een van Suid-Afrika se bekendste digters. Die gedigte is nog nie vantevore vertaal nie en dit is die eerste maal dat dit in druk verskyn. Dit is ook die eerste keer dat ’n bundel met Antjie se verse in Amerika uitgegee is.

In die inleiding skryf Antjie: “Three themes have fingerprinted my work for four decades: politics and the land, family and love, and the being-ness of the poet. This volume attempts to present a kaleidoscope of how these themes changed and developed in the course of ten volumes against the background of profound political and social changes within South Africa.” http://www.sevenstories.com/events/book-launch-for-south-african-poet-antjie-krog-on-april-18th/

In sy resensie van Skinned skryf Leon de Kock in Die Burger van 14 Julie 2013 dat die titel heel gepas is vir hierdie versameling van Antjie Krog se gedigte in Engels: “Die onderdele van die boek is vergelykbaar met ’n reeks digterlike velle wat stelselmatig afgewerp word. Dit is ’n proses van gedaanteverwisseling wat alles in die stryd werp om vaste ras- en kultuurmodusse om te vorm.

“’Vertaling’ in die breedste sin moontlik, dit wil sê struktureel, linguistiek, ontologies en kultureel, staan sentraal in Krog se estetika, en hierdie versameling – ondanks sy tekortkominge – is effektief ’n poëtiese manifes van die allergrootste belang. Dit is ’n verkenningstog vir alle Suid-Afrikaanse digters oor alle grense heen en veral vir die diep-enkelsinnige, eenogige Engelssprekende Suid-Afrikaanse digterlike gemeenskap.”

De Kock sluit sy resensie af: “Krog bly een van die min Suid-Afrikaanse digters wat werklik ambisieus te werk gaan wat betref digterlike strekking, vormverwisseling en taalgebruik. Mag sy dit al hoe beter doen, want dit is ’n grootse tog.”

Die gedigte in Skinned kom uit Otters in Bronslaai (1981); Jerusalemgangers (1985); Lady Anne(1989); Gedigte (1995); Country of My Skull (1998); Kleur kom nooit alleen nie (2001); Met woorde soos met kerse (2002); die sterre sê ‘tsau’ (2004); en Verweerskrif (2006).

Antjie se gedigte word gereeld getoonset. In 2012 is gedigte uit Verweerskrif gebruik as die basis vir ’n liedsiklus wat deur die komponis Ruan Strauss Kalis getoonset is. Hierdie musiek was ’n kombinasie van kunslied en kabaret.

In Februarie 2013 is die produksie “Woorde met wieke” in die Oude Libertas-teater op Stellenbosch op die planke gebring. Van die bekendste Afrikaanse kunstenaars in Suid-Afrika, soos Coenie de Villiers, Jak de Priester, Herman van den Bergh en Andries Bezuidenhout het elk van Antjie se gedigte getoonset.

Antjie het haar 60ste verjaardag in Den Haag gevier met ’n aandgeleentheid op 10 Oktober 2012 wat deur Writers Unlimited The Series aangebied is. Sy sou by hierdie geleentheid van haar Afrikaanse gedigte voorgelees het en ander digters het ook opgetree. Adriaan van Dis sou met haar gesels oor die posisie van die digter in Suid-Afrika.

Met Antjie se sestigste verjaardag het die volgende skrywers haar gelukgewens:

  • Max du Preez
    My wens vir Antjie is gesondheid en hope liefde, en mog ons land nader beweeg aan dit waarvan sy so lank gedroom het.
  • Breyten Breytenbach
    Mag sy nog lank vir ons word-en-verwordtaal uitgespaar bly, mag sy genade en geduld hê met die Dwaalvolk, en mag sy net van krag tot krag gaan. Viva, Antjie! Viva!
  • Joan Hambidge
    Mag jy op sestig, voortdig
    op jou uniek woedende 
    en priemende wyse.
  • Deon Meyer
    Baie geluk, Antjie. Mag al die regte woorde in die volgende jaar gedienstig voor jou pen se punt kom lê. Lekker verjaar.
  • André P Brink
    Net ’n dankie-sê, liewe Antjie, dat jy is wie en wat jy is, en dat jou daar-wees dit vir almal van ons die moeite werd maak om te wees wie en waar ons is.
    Met liefde,
    André en Karina
  • Marita van der Vyver
    My hartewens vir Antjie op 60: dat jou woorde nooit sal opraak of wegraak nie; dat jou geliefdes se liefde jou tot die einde sal abba; dat jou hart altyd so vol passie sal bly klop.
  • Riana Scheepers
    ’n Rympie, vir Antjie, op 6(0)
    Antjie S maak kinders bang
    en Antjie K skryf versies
    my wens vir jou op hierdie dag:
    ’n versekoek met kersies.

(Beeld, 23 Oktober 2012)

In Die Burger van 3 Maart 2012 gee Antjie haar mening oor godsdiens: “Hoe ouer ek word, hoe meer dink ek dat die mens se behoefte aan godsdiens, God, Jesus en ’n heilige gees hoofsaaklik met mag te doen het. Hoe meer ‘uit beheer’ jy voel, hoe meer het jy iets nodig om te stabiliseer. Maar dit is nie te sê dat dit nie vir my soms wonderlik is om in ’n kerk te wees nie, dat as ’n vorm van saamwees, veral in ’n swart kerk, dit ’n mens sterk bind aan iets groters as jyself, nie God nie, maar mense, die spiritualiteit van menswees.

“Wat glo ek nóú? Ek hou nie van die woord ongelowige nie. Want ek is gevul met geloof, maar ek is nie ’n Christen nie. Ek glo nie aan God soos hy vertel word deur die Bybel of die kerk nie. Maar ek glo dat daar iets groters as ekself is. Die beeld waarmee ek dit miskien kan verduidelik, is dat elke mens aan die struktuur van dit wat groter as jyself is, drink soos ’n baba aan ’n bors. Ons voel die tepel tussen ons kake, dan sê ons: dis God. Ons voel die melk in ons mond en sê: dis Christus. Intussen is daar agter die tepel ’n hele bors met ’n ingewikkelde klierstelsel, daar is nog ’n bors, en daaragter die hele liggaam. Maar ons kyk met ons bababrein en ongekoördineerde oë na die tepel en sê: ghoeghoe-ghoe.”

In 2012 is daar ’n skrywerskonferensie in die Fugard-teater in Distrik Ses gehou wat deel was van ’n internasionale herbesoek aan die Edinburgse wêreldskrywerskonferensie van 1962. In haar spreekbeurt oor die tema “Moet letterkunde polities wees?” het Antjie gesê: “Die departement van kuns en kultuur is ’n nul op ’n kontrak en kan geensins krediet neem vir Suid-Afrikaanse kunstenaars se suksesse nie.”

In haar praatjie het sy gewys op hoe belangrik dit is dat daar wel wisselwerking tussen skrywers en politici moet wees, ook teen apartheid. Sy het Karl Marx aangehaal: “’n ­Regering hoor net sy eie stem. Hy wéét hy hoor net sy eie stem. Hy hou graag die illusie voor dat hy die stem van die mense hoor. En dring daarop aan dat die mense ook hierdie illusie voorhou.”

Sy het voortgegaan: “Dáárom moet ’n kabinet letterkunde lees. Nóg die staat wat hulle beheer, nóg die goeie planne om die land om te laat draai, sal help in die afwesigheid van ’n ­visioenêre woordeskat wat ten beste gemaak word deur skrywers en digters om te skep, besiel en fokus op sosiale kohesie.” (Die Burger, 24 September 2012)

Antjie Krog was in 2014 aan die ontvangkant van die Mbokodo-toekennings wat sedert 2013 toegeken word. Dit word gesamentlik aangebied deur die Departement van Kuns en Kultuur en Carol Bouwer-produksies om erkenning te gee aan vroue wat ’n beduidende bydrae tot die kunste in Suid-Afrika gelewer het. Sy het dit ontvang in die kategorie van taal en die kuns van storievertel, veral vir die invloed wat Country of my skull (1998) gehad het en nog steeds het.

In 2014, agt jaar na die verskyning van haar vorige bundel, Verweerskrif, word Mede-wete / Synapse gepubliseer. Dit word in 2015 met die ATKV-Woordveertjie vir poësie bekroon (beoordelaars Diana Ferrus, Margot Luyt en Bernard Odendaal) en in 2017 palm Antjie met Mede-wete vir die tweede maal die Hertzogprys vir poësie in.

In sy huldigingswoord by die oorhandiging van die Hertzogprys aan Antjie sê Hein Viljoen dat Mede-wete ’n "sterk en ontstellende bundel is, oorspronklik en vindingryk. Die digter ondersoek ’n wye reeks aktuele kwessies, veral politiek en rasseverhoudings (soos in die skrynende reeks 'Bediendepraatjies'). Die bundel is oorweldigend (en baie moedig) in die wyse waarop dit die kwessies van bevoorregting, wit-wees en inherente rassisme aan die orde stel. Dit is fel betrokke poësie – baie naby aan die aktualiteit.

"Die teks ontgin ’n wye reeks taalregisters op ’n byna argeologiese wyse. Taal word – op die voetspoor van Paul Celan na die Groot Brandoffer – gebreek en hersaamgestel, so asof die bestaande (standaard)taal te swaar dra aan 'n ideologiese ballas, uitgedien geraak het en daarom nuut uitgevind moet word. Deur sy/haar mede-wete en mede-pligtigheid is die leser betrokke by hierdie ontdekkingstog. 'n Soort meedoënlose woordspel kenmerk die bundel – ’n voorneme as’t ware om meer as een betekenis op ’n slag uit te druk en betekenis ekspressionisties uit te vergroot, soos in die gedig by Mandela se dood of in die gedigte oor die geliefde. Deur sy volgehoue (taal-) eksperimentering is die bundel vergelykbaar met Marlene van Niekerk se bundel, Kaar. (...)

"Die gewaagde en intense aanpak van die politiek van skuld, die verskeidenheid en veelstemmigheid daarvan en die uiters vernuwende eksperimentele gebruik van die taal maak Mede-wete ’n waardige ontvanger van die Hertzogprys – ’n besondere prestasie in ’n jaar waarin verskeie puik bundels meegeding het om die prys."

In haar antwoord het Antjie Krog onder andere gesê (Die Burger, 22 Junie 2017): "(D)ankie aan die Akademie vir soliede gewoonheid. Want waarom dit eintlik hier gaan, is dat literêre pryse die manna uit die hemel is, die dou op Gideon se skaapvel, dan op dan af. As dit na jou kant toe kom, is dit iets waaroor jy jou van harte verbly, jouself toelaat om vir ’n oomblik in rond te dryf, dalk jou bek bokant die water soos ’n seekoei te groot te rek of klein spuitfonteintjies van plesier te blaas. Want ’n digter kan nie lewe van poësie alleen nie. Nog erger: om poësie te kan skryf, moet jy as ’t ware toegang tot lugleegtes hê, oop tyd, ruimtes vol tyd. Geld soos dié stel ’n mens in staat om van die agtervoet na albei voete te beweeg en uitgewers weer op goeie voet te vind. (...)

"My grootste dankie gaan egter aan die poësieliefhebbers in Afrikaans, of hulle self ook skryf, pryse toeken of onderrig gee, of net ’n gedig lees en vir ’n oomblik hulle oë toemaak asof hulle iets bowe-werkliks ervaar het, mense wat glo dat poësie die slagaar van ’n taal is, die diepste vorm van filosofie. Wat weet dat poësie die gevoelige ervaring van menswees verleng; wat aan iemand wat sigself aan die einde van wanhoop bevind, ’n opening bied, ’n asem, ’n oomblik van insig - verblindend van die onsegbare.

"Poësie is die groot Ongekontamineerde. Dit is seëvierend omdat dit die mens in ’n verhoogde staat van bewussyn plaas, altyd met verhelderende gevolge. Asof jy op die drumpel van asem staan. Asof jy suurstof uit koel bome kry en skielik vorentoe gaan. Dis waarom digters skryf. Dis waarom lesers lees. Om die verheldering, die intensifisering, om iets van die onsterflike te ontruk.

"’n Goeie gedig is ’n versneller van die bewussyn. Indien jy ooit eenmaal hierdie versnelling meegemaak het, smag jy daarna en raak volslae afhanklik. Wie sigself in hierdie soort verruklike afhanklikheid van taal bevind, heet, so dink ek, digter en gedigliefhebber. Ek salueer julle en ’n uitgewery wat al vir honderd jaar poësie publiseer.

"So hou die poësie voet by stuk, gee sy nie om as haar gesig verbrand nie, selfs al word sy toegegooi deur nimmereindigende internetmeule-variasies wat geen komplekser handeling van lesers verg as ’n duimpie op of af nie."

Mede-wete is Antjie se gunsteling bundel, vertel sy aan Pienaar-Vosloo. "Ek het die grootste risiko's daarmee geloop. Hoe ouer jy raak hoe meer vra jy jouself af of dit nie nou tyd is om stil te bly nie. Moet vandag nie uitgesê word deur die jongeres en digitaal-ratses nie? Hoe ouer jy word hoe meer bewus word jy van weerloosheid en sterflikheid en dit raak moeilik om skerp en hard te werk om van oortollige woord-gewig ontslae te raak. Dit word al hoe moeiliker om ’n digbundel te publiseer en om legitimiteit daarvoor te kry. Met al die nuwe tegnologie en vlugtigheid van woorde op die internet, die digitalisering, Facebook en blogs is daar net soveel digters. En mense kan so vinnig, soms ondeurdag en so onbevange daarop reageer.”

Wanneer sy met Murray la Vita oor Mede-wete gesels, noem sy aan hom dat sy gewoonlik altyd ’n stel tipiese temas het. "Ek skryf politiek, ek skryf persoonlike gedigte, ek skryf oor taal, ek skryf oor die maak van gedigte, ek skryf oor my familie en hierdie keer toe ek begin werk aan ons plaas en die werf, toe besef ek dat eintlik is werf ’n ideale plek vir álmal.

"Die werf van ’n plaas is waar álle dinge bymekaarkom, die sterre, die diere, die mense wat daar werk, die eienaar, die kinders, die kos, die honger, die onreg - dis alles, alles plek op ’n werf.

"Ek het aanvanklik gedink die bundel se titel moet wees Die werf en toe het Johann de Lange vir my gesê, nee, jô, hierdie gedigte ... jy weet nie wat maak hulle daarin nie en as mens dit lees, is dit te vreemd en dit is te wild, hy dink hulle moet uit.

"En toe het ek gedink ek probeer juis ’n ánder taal kry ... En dis dan waar ek begin het om by Paul Celan te kyk wát doen jy aan taal om die woorde wat nie meer iets beteken in daai taal nie, terug te bring dat hulle iets beteken. Toe het ek die gedigte almal uitgehaal en hulle in ’n aparte afdeling gesit."

Op Versindaba skryf Marlies Taljard as volg oor Mede-wete: "Die bundel Mede-wete herinner aan ’n laataand-gesprek waarin die knelpunte van ons lewe in hierdie land en ons bestaan op aarde op diepsinnige wyse en met inagneming van die geskakeerde aard van die werklikheid en die waarheid uitgepluis word. Die bundel het ’n diep spirituele stramien wat in die grein van die gedigte lê, dikwels sonder om beredeneer te word. (...)

"Die digterlike styl van Mede-wete is, soos ons nou reeds van Antjie Krog te wagte is, kenmerkend van ’n digter wat ’n meester van haar ambag is. By haar gaan gedigte met ’n narratiewe aard naatloos oor in liriek, in argumentatiewe betoog; van die mees informele register na die formele akademiese register sonder dat sy ooit haar greep op die poëtiese aard van die gedigte verloor. Die wyse waarop sy taal hanteer, vorm en vervorm om nuut te klink en nuut te beteken het reeds by haar ’n handelsmerk geword en laat die leser telkens sprakeloos. Sy skryf ewe gemaklik in vrye versvorm as wanneer sy van ingewikkelde vaste poëtiese strukture gebruik maak. Mede-wete hoort myns insiens voor in die vertoonkas van die Afrikaanse poësie. Ek haal ten slotte die laaste deel aan uit een van my gunsteling gedigte, mirakel, met sy pragtige liriese – byna inkanterende – inslag:

ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak

ek het geen ander land
as dié land nie

mateloos is my liefde vir die land
verwikkeld gehard en onomwonde

ek glo nie aan wonders nie maar
die vreedsame vrymaking van my land

was ʼn wonder – onkant en lighoofdig bly
dit by my die weergaloosheid daarvan

bly my by

Die Nederlandse vertaling, Medeweten, vertaal deur Alfred Schaffer, Robert Dorsman en Jan van der Haar, was een van die vyf benoemdes vir die Filter Vertaalprijs vir 2016.

Oor die Nederlandse vertaling skryf Remo Campert onder andere in De Volkskrant: “Lees de hele bundel Medeweten. Dan zult u het hopelijk met me eens zijn dat Antjie Krog Nobelprijs-waardig is.”

Die beoordelaars vir hierdie prys het onder andere oor die vertaling geskryf: "Medeweten vormt zonder twijfel een hoogtepunt in het oeuvre van de Zuid-Afrikaanse dichteres Antjie Krog. Het is een bundel van een verbluffende complexiteit waarin centrale motieven uit haar werk samenkomen: grond en gemeenschap, het vrouw-zijn, de menselijke vergankelijkheid (zoals in het prachtig en tegelijk ontluisterende ‘ontweiden’ over de levende dode die haar moeder geworden is, een ‘dodin’), maar ook het schrijven zelf. Alle stijlregisters worden ingezet, zowel spreektalige als hooggestemde, de toon schiet heen en weer tussen nuchter, ontroerend en schokkend, en genreconventies moeten eraan geloven. Tafereeltjes die in verwondering stilstaan bij het dagelijks leven volgen op prozagedichten over de worsteling met ongelijkheid en racisme of op beschouwingen over de taal als grondstof van de dichter. Dankzij Robert Dorsman, Jan van der Haar en Alfred Schaffer beschikken we nu ook over een tweetalige leeseditie, met telkens op de linkerpagina de Nederlandse vertaling en rechts het origineel. Een toelichting bij de vertaling is er niet, waarschijnlijk om de poëzie laagdrempelig te houden. Dat is een begrijpelijke bekommernis, al vraagt de lezer zich nu wel af waarom bijvoorbeeld het koppelteken uit de Afrikaanse titel (Mede-wete) werd weggelaten, of waarom niet de integrale bundel werd vertaald. De vertalers hebben zich strikt gehouden aan de strofebouw en aan de bladspiegel en slagen er uitstekend in om de sfeer en het ritme van de oorspronkelijke gedichten op te roepen." (http://www.tijdschrift-filter.nl/filter-vertaalprijs/2016/nominaties-filter-vertaalprijs-2016.aspx)

Antjie se ma, Dot Serfontein, is op 4 November 2016 oorlede. Haar reaksie op haar ma se afsterwe teenoor Charles Smith was: "Die verlies is oorweldigend. Die woord huldeblyk skielik ook ..." Antjie het die gedig "ontwei" in die bundel Mede-wete aan haar ma opgedra:

ontwei

jy gly onder my uit, Ma, in hierdie virulentgeurende lente
vanoggend toe ek jou groet, klamp jy aan my vas
en byna te buite hou ek jou

hou jou lignemendheid jou werpwrakende woedebrokke
jou brak onuitblussende steenkooloë vegtend bloed-
veragtendvegtend maar jy’s reeds sonder skouers

(here die gedagte aan ’n ontdagte-jy klief op my af die weg-
glip van die vreesloosste priemhonger sillabe
van my lewe) – dis boggel wat ek
in my arms hou    newe-aards skots-skreef probeer jy
die inmekaarplons toeskoffel
die swetsende terdoodbrenging van slyt-
bare vlees soos voortgedryf deur pis deur die onwaardigheid
van skyt van herberglose breuke knoppe en fynmasige
wade van immerende onmagtigheidsmakings

maar altyd

altyd met die vlammende dapperswaard stip vooruit dit robbel
en skree Ma want hoe benaam ek jou tot leef tot nader-
baar bly as boegbeeld wat die aarde voor my kloof

torsende briefvellige vrou morsend met jou nat grys hare
asof jy met moeite uit die grond geruk is ek sien die wanhoop
in jou oë ons gryp na die enigste wat ons ken: die skrifgeluid van

skerwe angsvallig tastend teen soveel vergruisende weerloosheid
om die dood te probeer indink tot die dood-in toe hoor ek jou
beier aan onverlore taal jou woede spaar jy nie nog jou deernis
nog jou arms nog jou bors in die truspieëltjie sien ek jou staan
staan in jou vooroorstortende lyf

alleen, onnoembaar mensonterend alleen dodin van my wese
en trillende keelvel van my alfabet

In Taalgenoot (winter 2015) vertel Antjie vir Anet Pienaar-Vosloo dat sy ’n beter ouma is as wat sy ’n ma was. "Ek glo onwrikbaar daarin dat jy vir kleinkinders moet lees vandat hulle jou kan hoor. Om vir ’n jong kind daagliks voor te lees is die grootste geskenk wat jy die kind kan gee. Rymelary en die klank van rym, sonder om te verstaan wat die woorde beteken, vorm ’n ritme in ’n kind se brein wat haar meer laat begryp as wat sy verstaan. Rym werk met klanke en asem, jy voel dus taal deur jou lyf.

"Rudolf Steiner noem dit 'innerlike semi-spirituele ruimtes' wat ’n kind se psige verruim. Rym stel ’n kind voor aan sulke komplekse sinstrukture dat haar maatjies, wat lesers is, eers op 15 by haar gaan opvang. Rym skep ’n enorme passiewe woordeskat – mens ken mos baie meer woorde as wat jy gebruik. Dit laat ’n kind kreatiewe spronge maak: ‘lap’ en ‘kap’ het niks met mekaar te make nie, maar klankgewys konfronteer hul samehang jou. Daar word beweer dat ’n Engelstalige kind in 1945 maklik 10 000 woorde geken het. Vandag is dit skaars ’n duisend. Een van die belangrikste redes vir die agteruitgang is glo dat ouers nie meer vir kinders rympies en berymde gedigte lees nie.”

Tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein in 2017 lewer Antjie Krog die Sol Plaatje-lesing wat hulde bring aan hierdie veelsydige skrywer en denker onder die titel "Kuns maak ons vry".

Voordat Antjie aan die woord gekom het, het die die rektor van die UV Sol Plaatje aan die gehoor bekendgestel as ’n "intellektueel, ’n joernalis, skrywer, leier in die ANC, en boonop die eerste swart Suid-Afrikaner wat ’n roman in Engels geskryf het, al was hy Tswana van geboorte en kon hy sewe tale praat. Hy is eers na sy dood raakgesien en geëer."

Antjie het in haar lesing grotendeels gefokus op Sol Plaatje se boek Mhudi. Naomi Meyer het op LitNet Antjie se lesing opgesom:

"Hier is ’n paar ander hoofpunte uit haar lesing:

  • Sol Plaatje nooi wit mense in die literatuur van swart mense in, nie andersom, soos normaalweg die geval is nie.
  • En hy skryf oor wit en oor swart mense op doodgewone manier – niemand is verhewe bo die ander nie. Almal het ’n storie om te vertel. ’n Manier vir swart en wit om mekaar te verstaan (in sy roman): "Their noticing of each other's pleasures and discomforts."
  • Sy verwys na Plaatje se "verbal engagement". Ten spyte van Plaatje se persoonlike gevoelens oor wit en oor swart, hoe daar teen hom as swart mens gediskrimineer is, tree mense van verskillende rasse en kleure met mekaar in die boek in gesprek. Geen mens kan oor ander regeer nie, is sy houding. Plaatje kies, ironies genoeg, vir Moody as sy held (die mag van kolonialisme – Engeland – en die kerk/godsdiens, ten spyt).
  • Naamgewing speel ’n rol: name van mense is in hul eie tale, soos Afrikaans, maar plekname is gegee volgens die inheemse name, gegee volgens die naam van die mense wat daar gewoon het. Taal en naamgewing het te doen met besitreg.
  • Alliansies is van belang in die boek. Oorloë is voortdurend ’n agtergrondtema, en dan ook tale, oor en weer: kommunikasie oor en weer.

"Soos wat oorloë ’n tema vorm in Plaatje se werk, is ook meertaligheid iets wat Krog deurlopend in Plaatje se werk uitwys. Plaatje wys op hoe belangrik vertaling vir hom as skrywer is deur in sy boek vertaling van Tswana-woorde te verskaf.

"Krog wys op hoe die Bybel aangepas word in die roman, waar Paulus skryf dat almal gelyk voor God is. In Plaatje se roman betrek hy nie net Romein en slaaf nie, maar swart en wit, man en vrou.

Krog sê dat Plaatje nie net oor mense skryf nie, maar ook alles van die groter heelal ondervang: komete, insekte, die kosmos ... In sy werk is daar 'ever-widening circles of inclusion: religions, races'.

"'Dit het meer as 20 jaar van demokrasie geverg om haar oë oop te maak vir waar Suid-Afrika verkeerd geloop het,' sê Krog. 'Kyk wat gebeur uiteindelik in sy boek: die twee groepe is uit mekaar, swart en wit. Dit kon verskillend gewees het, dit kon ’n huwelik gewees het wat gewerk het. Maar Plaatje is in beheer van sy karakters en van hul uitkomste. Hy is dus vryer in sy boek as in die werklike lewe. Hy het ’n visie terwyl hy skryf; sy skrywe oor onderlinge verbintenisse is wat hy sien van die land waar hy nie is nie.'

"Krog se slot is verrassend. Plaatje se roman, sê sy, is egter nie net ’n boodskap vir ons tyd nie. Kom ons vier die lewe en die werk van ’n man wat ver van hier gewoon het, jare gelede, en wat ons vry maak omdat kuns vry maak. Kom ons wees vry soos wat kuns ons vry maak, ’n viering van kuns."

Op van die vrae wat die gehoor aan Antjie Krog gevra het, was haar pleidooi: ’n land soos Suid-Afrika met al sy tale, behoort ’n obsessie met vertaling te hê. "Ons moet vertaal. Ons moet mekaar se tale praat."

In ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger van 30 Junie 2017 praat Antjie met hom oor die dood: "Ek is tog altyd bietjie teen die feit dat die dood soms in die poësie ’n ontsnapping word van die léwe; met ander woorde jy hoef nie te skryf hoe jy oud word nie en hoe jy sleg lyk en voel nie. As jy praat, praat jy oor die dood. En ek sê nie dis maklik om oor die dood te praat nie, maar ek sê net daar is ’n stadium van verwoording wat verwaarloos word en dít is die pre-dood.

"Ek het vir my ma die heeltyd gesê: 'Skryf oor nóú. Wat dink ’n mens? Wat doen ’n mens? Wát?' En sy het glad nie belang gestel daarin nie.

"En ek het een keer vir ’n ander baie ou skrywer gesê: "Ek wil weet oor daai tydperk, ek wil daai tydperk verstaan. Die poësie het my in staat gestel om die fases van my lewe te begryp. Jy raak verlief met die gedigte van Ingrid Jonker, Jy hét lief met Breyten se goed, of Van Wyk Louw se 'Ek haat en ek het lief'... (...)

"Dit gee jou toegang tot ’n intensiteit van sekere fases van jou lewe en dáái deel word nie verwoord nie. En toe sê die skrywer vir my: "Ék skryf om wég te kom daarvan.' En toe dink ek dit is ’n probleem, want dit is hierdie ... En dan, wanneer manskrywers in prosa wél daaroor skryf, dan maak hulle hulself ou vrouens - sowel Coetzee as Karel Schoeman; die karakters is ou vrouens wat sterwend is.

"Nou weet ek nie of dit die uitmekaarval van ’n vrou se liggaam is wat makliker is om jou te verbeel as die uitmekaarval van ’n mán se liggaam nie.

"En jy weet, sodra die digters oud word, dan vat hulle meesal jong vrouens, so dan het jy hierdie fantastiese kontras van die jeug en die dood. Maar nié hierdie arme stokou man saam met die jeug nie; die uitmekaarvallende manlike liggaam is nie ’n teenwoordigheid nie; ek ken nie gedigte waarin dit figureer nie."

Dit het Murray la Vita opgeval dat iets wat Antjie fassineer van die manlike teenwoordigheid is dat "sodra dit verdwyn, vat dit die mag saam".

"En nou kyk jy na die letterkunde - die lesers is eintlik vroue, oral waar jy kom, sien jy vroue; die meeste van die mense wat klas gee in die letterkunde, is vroue; al hoe meer van jou resensente is vroue. En soos wat dit gebeur, kan jy sien hoe die mag van die letterkunde verdwyn.

"In die argitektuur en die mediese beroepe gebeur dit ook: hulle sê die beroep word vervroulik.

"En dan sê hulle mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die statuur van daai beroep. Om ’n argitek te wees, is nie meer daai aangrypende Fountainhead-ding van die ou dae nie. So hulle gaan word dan spesialiste, die mans of hulle gaan in geld in.

"Ek kyk na die politiek wat nou sulke sterk vrouens het en hierdie mans wat uitruilbaar lyk. (...) Hulle lyk almal of hulle in dieselfde fabriek gemaak is. (...) Ek vermoed oor ’n ruk gaan daar geen mag mee oor wees in die politiek nie. Die geld gaan die politiek só lamlê dat dit nie eintlik saak maak wat die politici daar binne besluit nie. Dis eintlik klaar so - geld run die wêreld en jy sien daai mans wat dit doen nooit.

"Nou in die kreatiewe letterkunde blý mans gelukkig, so ek is altyd bly as ek na ’n plek gaan en jy sien daar gaan manskrywers wees want dan weet jy hulle bring met hulle die mag saam, die aandag, die respek.

"Ek dink dit is jammer dat dit so is en dat ’n mens nie leer hoe om waarde te heg aan dit wat vrouens doen nie. Of doen ons dit op so ’n manier dat dit móéilik is om dit te eer?"

In Januarie 2018 is die Gouden Ganzenveer vir 2018 aan Antjie Krog toegeken. Dit is ’n kulturele prys wat elke jaar in Nederland toegeken word aan ’n persoon of instituut wat vereer word vir hul bydrae tot die geskrewe en gedrukte woord in die Nederlandse taal. Dit was die eerste maal dat hierdie prys aan ’n persoon van buite Nederland toegeken is.

Gerdi Verbeet, voorsitter van die Akademie van die Gouden Ganzenveer, het die nuus op die Nederlandse radioprogram De Taalstaat bekendgemaak: “Die Akademie van die Gouden Ganzenveer eer Krog as ’n spesiale en veelsydige digter, as ’n uitsonderlike skrywer en joernalis van integriteit, en as ’n begaafde kunstenaar van haar eie werk.”

Eloise Wessels, besturende direkteur van Media24 Boeke en hoof van NB-Uitgewers, het die nuus verwelkom. “Dit is vir ons as Krog se uitgewer eweneens wonderlike nuus – ons is saam met haar trots en bly.” (LitNet)

Antjie het in ’n onderhoud met NPO Radio 1 gesê: "Ek is verbyster, ontroer en opgewonde oor die erkenning wat ek uit Nederland kry. Die Nederlandse taal het baie vir my as digter beteken. Die Nederlandse taal het my verryk. Die prys kom op ’n interessante tyd, aangesien die Afrikaanse taal met rede bedreig voel." (Maroela  Media)

Joost Nijsen, Krog se Nederlandse uitgewer by Podium, meen dat die entoesiasme vir haar werk bogemiddeld groot moet wees vir die Akademie om ’n uitsondering te maak vir ’n “buitelandse” outeur. “Ons het hier by Podium op die tafel gespring toe ons dit gehoor het. Nie alleen is die Gouden Ganzenveer waarskynlik die mees gesogte literêre prys in Nederland nie, maar dit is bowendien uniek dat die prys toegeken word aan ’n nie-Nederlandse skrywer.”

Willie Burger het aan Jo Prins (Netwerk24, 19 April 2018) gesê hy dink Antjie Krog se werk het baie om aan Europese lesers te bied: "Juis omdat sy met die kompleksiteite van menswees in omstandighede van uiterste verskille tussen arm en ryk, geleerd en ongeletterd, en ’n 'mengelmoes' van beskouings in haar werk worstel. En hierdie is temas wat belangrik is hier in Suid-Afrika maar ook toenemend daar (Nederland).

"Deur hierdie prys word Krog veral onder die aandag van ’n wyer Nederlandse publiek gebring. Die soort erkenning dra ook daartoe by dat haar status as skrywer in die buiteland verhoog – wat kan help om haar werk ook verder bekend te maak – in ander lande en vertalings."

Louise Viljoen het ook soos Jo Prins gesê dat dit merkwaardig is dat hierdie Nederlandse prys nou aan ’n Afrikaanse skrywer toegeken word.

"Wat my betref, is die prys welverdiend: Krog is ’n uitmuntende en waagmoedige skrywer wat met elke nuwe teks ’n stroomverlegging in mense se denke bring. Sy prikkel en provokeer met haar werk. Verder het sy die vermoë om deur haar fokus op plaaslike Suid-Afrikaanse sake mense ver buite die grense van die land te raak."

Rudie van Rensburg se opmerking teenoor Jo Prins was: "Met Afrikaans tans spartelend om kop bo water te hou as akademiese taal, is die verhouding tussen Afrikaans en Nederlands te verwelkom."

In 2017 verskyn ’n Engelse vertaling van Antjie se Hertzogprys-bundel Lady Anne onder die titel Lady Anne: a chronicle in verse. Antjie vertel aan Nathanael Freed hoe dit gebeur het dat die bundel in Engels vertaal en uitgegee is: "It is the visit of professor Greg Clingham who came into my office and asked wouldn’t I oversee, or look, or do a translation of Lady Anne into English. And I said, 'Why?' And he said, 'No, no, no, I think Lady Anne is on a comeback, and that the book would fit in nicely with all the other projects.' And so I said yes, and I was too nervous to ask anyone else to do the translation, because maybe the poems don’t work, and then that one has to tell you, or you have to realize, and so I said no, I’d do it myself. I think on 1 December – our long holidays are over December, so November, December, January, February – I translated them into English. There is a whole controversy about poets’ translating themselves. Brodsky did that, and some playwrights did that, and it’s very problematic because you’re not really a translator; you’re a poet. So when the line doesn’t work in English, you don’t look for a better line; you change the line. So this time, I tried my best not to do that, but to behave like a translator, and not to make too big a difference between the Afrikaans version and the English version."

Freed wou by Antjie weet watter probleme sy ondervind het met die vertaling van Lady Anne. Sy het verduidelik dat een van die kenmerke van die Afrikaanse bundel is dat die Afrikaans baie kripties is. "It didn’t flow necessarily, and Afrikaans is a language that lends itself easily to any kind of distortion. It’s a young language, so you can do with it what you want, which you can’t in English. It’s very jarring if you do the word distortions in English that you’ve just done in Afrikaans. So, there’s none of that, and I think the flow is much more logical. But when the book was written in Afrikaans, when it was filled with anger against your leader, after other Afrikaners, you actually didn’t want them to read you. You didn’t want them to like what you wrote, so you made it deliberately difficult to read. This time it was not like that. The other biggest issue was the form, because I chose a specific rhyme pattern for the historical parts. It’s sort of ABAB et cetera, and the last line is again A, so that the whole stanza ends with a rhyme. It’s like a circle; it comes together with a rhyme. And that I was not always able to do in English. So it’s less formal, and it’s less structured."

Freed het baie belanggestel oor hoekom Antjie Krog op Lady Anne as onderwerp van hierdie digbundel besluit het. Sy het geantwoord: "It’s like a treasure if you come across someone who is herself or himself a good articulator, and because she wrote a lot – diaries, letters – she not necessarily expressed herself so well, but she had the eye of a painter, and so she could describe the things that she saw, which is wonderful because you move with her through the Cape during that era. And then, she had these unbelievable drawings which you could also then use in your poems, and you could then treat her as a fellow artist. So she’s not only a fellow woman, she’s not only a fellow observer, but she’s also agonizing about how to do justice to what she sees, or to the complexity of what she sees. One more example is that there was a sale of paints in London at Newman’s, and she went there and bought a lot of paint to bring back to the Cape, and when she arrived at the Cape, she realized that she completely misjudged the sun and the clear clarity of that landscape. She had all these dull English greens, and she doesn’t have yellow, red, or others. And how many times she tried to draw somebody or something and it didn’t work out. All of that is a precious extra thing that she brought to why I wanted to choose her. Or, I chose her, and then, in the end, there are a lot of spinoffs. Like also, the notion of the turtle or the soul-fish, this I also got from her. And it became a constant metaphor for me in other works as well. I often used 'in change of tongue'. It’s the same as the fish in South Africa. We have 'to change our tongues' if we want to live there."

Op Amazon word die bundel as volg opgesom: "Lady Anne: A Chronicle in Verse by Antjie Krog is the first English translation of an award winning book published in Afrikaans in 1989. It engages critically and creatively with a key moment of colonial history—the time Lady Anne Barnard spent at the Cape of Good Hope, from 1797 to 1802. Usually mentioned merely as a witty hostess of fabulous parties, Anne Lindsay Barnard, the daughter of a Scottish Earl and the wife of a colonial administrator, was an independent thinker and a painter and writer of genius. She left diaries, correspondence and watercolors documenting her experiences in this exotic land, the contact zone of colonizers and indigenous peoples. Antjie Krog acts as bard and chronicles an epic about this remarkable heroine’s life in South Africa, and intertwines it with life two hundred years later in the same country but now in the throes of anti-apartheid anger and vicious states of emergency. Krog’s powerful and eloquent bringing together of the past and the present, and the historical and the poetic embodies an experience that is as pertinent and compelling today in a democratic but still turbulent South Africa, as it is in the USA and other places where the intersections of race, identity, power, and language lie at the center of civic life."

Stephen Clingman het op Amazon geskryf dat daar deurgaans in hierdie bundel ’n sterk en boeiende kwaliteit aan Krog se taal te bespeur is, "digging deep into the nature of South African life and her own self-challenging relationship to it ... There is a substance here, a regard, a responsibility, a creative response which is in keeping with the original nature of the volume when it was first published during the turmoil of the last decade of apartheid in South Africa in the 1980s. This is an extraordinary opportunity to present a writer of tremendous significance to a wholly new realm of readers."

Vir Ingrid de Kok is Lady Anne nie net ’n bundel wat fikseer op twee geskiedkundige oomblikke nie – die koloniale lewe van die agtiende eeu en die teenstand teen apartheid in die 1908's. Soos alle groot gedigte is sy omvang wyd en diep. "In this masterly English translation it speaks to new circumstances, in particular renewed attacks by young South Africans on what they register as a still repressive colonial legacy. It also speaks to conditions of power in many other places, including the United States, where issues of belonging, identity, speech and silence, are alive and active. There too writers and thinkers are challenged to address the moral, intellectual and creative challenges these themes generate. Alert to the dangers of complicity and despite her view that it is impossible 'to hone truth with the pen/to live an honourable life within so much privilege,' Antjie Krog engages these difficult subjects with originality and power, in poetic language of great beauty, passion and complexity." 

Antjie Krog maak in 2018 ’n persoonlike keuse uit De kleur van je hart (Country of my skull), Een andere tongval (’n Ander tongval) en Nietz liever dan zwart (Begging to be black) en dit word deur Podium in Amsterdam uitgegee onder die titel Hoe alles hiert verander. Sy het ook ’n "aangrypende" voorwoord (volgens die uitgewers) tot die bundel geskryf. Die resultaat van hierdie keuse is ’n "intrigerend nieuw werk dat niets aan kracht heeft ingeleverd, omdat de kwesties die Krog zo grondid onderzocht en lucide beschreef nog altijd brandend actueel zijn." (Uitgewers se inligtingstuk)

Hier volg enkele aanhalings uit besprekings van Antjie se werke in Nederland:

  • "De grote kracht van dit boek is dat Antjie Krog de ongemakkelijkheid van haar emoties daadwerkelijk voelbaar weet te maken. Wat zij aan den lijve ervaart, voelt de lezer dankzij haar macht over de taal net zo. (...) Oordeel: virtuoze verbeelding van al dat onrecht en die pijn." Trouw
  • "Met dit boek heeft Antjie Krog me lamgeslagen."

            Adriaan van Dis over De kleur van je hart

  • "Een grandioze caleidoscopische reportage."

            NRC Handelsblad over Een andere tongval 

  • "Antjie Krog weet haar lezers altijd te raken."

            de Volkskrant over Niets liever dan zwart

  • "Op zeer geëngageerde wijze analyseert de auteur de nog steeds actuele zoektocht van de inwoners van Zuid-Afrika naar samenleven in vertrouwen. Een bundel non-fictie die de lezer aan het denken zet."

            NBD Biblion

In September 2018 was Antjie Krog en haar werk die fokus op die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging op Stellenbosch, onder die titel: "Antjie Krog en die vele raamwerke van die Afrikaanse literatuurwetenskap".

Jildou Fabriek van die Universiteit Utrecht het gekyk na Krog se plek in die Lae Lande; Yves T’Sjoen van die Universiteit Gent het haar en Herman de Coninck se werk onder die loep geneem, terwyl Jerzy Koch van die Adam Mickiewicz-Universiteit in Pole Krog se digkuns in vertaling bespreek het.

Antjie was self ook aan die woord met ’n bydrae getiteld: "Vertaling as werktuig om nuwe maniere van mede-wete te ondersoek".  Susan Smith van die Universiteit van Fort Hare was verantwoordelik vir die hoofreferaat oor Krog se werk met ’n eko-kritiese invalshoek op ’n gedigteks van haar.

Antjie Krog se werk is verder op die kongres uit verskeie invalshoeke benader. Daar was gesprekke oor haar impak op etlike diskoerse; daar is gefokus op haar intertekste; vertalings van haar werk is bespreek, terwyl daar ook op haar bundel Mede-wete gefokus is.

Verder is daar vergelykings getref tussen Antjie se Lady Anne en Alfred Schaffer se Shaka Zulu; gekyk na persepsies en humor in ’n Ander tongval; en besin oor leesstrategie van die outobiografiese poësie van vrouedigters aan die hand van Krog se gedig "hoe en waarmee oorleef mens dit?"

Antjie was ook een van die deelnemers aan die vierde Festival voor het Afrikaans in die Vlaams Cultuurhuis de Brakke Grond in Amsterdam. Hierdie fees fokus op kuns en kultuur en Antjie het saam met die rapkunstenaar Churchill Naudé en die skrywer-sanger Jolyn Phillips opgetree.

Publikasies:

Publikasie

Dogter van Jefta

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1980
  • 1982

ISBN

  • 0798102632
  • 0798113537

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Januarie-suite

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1980

ISBN

079810211X

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1973

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Beminde Antarktika

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1980

ISBN

0798105860

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Reina Prinsen-Geerligsprys voor Zuid Afrika 1977

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mannin

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1980

ISBN

0798105879

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Reina Prinsen-Geerligsprys voor Zuid Afrika 1977

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Otters in bronslaai

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1983

ISBN

0798111739

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eerste gedigte

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1990
  • 2004

ISBN

  • 0798117362
  • 0798127473 (sb)
  • 0798144599 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mankepank en ander monsters

Publikasiedatum

  • 1985
  • 2011 (illustrasies deur Diek Grobler)

ISBN

  • 0620087706 (sb)
  • 9780624052562 (sb)

Uitgewer

  • Emmarentia: Minotaurus
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Publikasie

Jerusalemgangers

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1986
  • 1992

ISBN

  • 079811939X
  • 07981130792 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Rapportprys 1987

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lady Anne

Publikasiedatum

  • 1989
  • 2004

ISBN

  • 0947046186 (sb)
  • 0798144475 (sb)

Uitgewer

  • Bramley: Taurus
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1990

Vertalings

Engels 2017 deur Bucknell University Press (Lady Anne: a chronicle in verse)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voëls van anderste vere = Birds of a different feather = Iintaka zolunye usiba: gedigte vir kinders

Publikasiedatum

1992

ISBN

1874863059 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Buchu Books

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Publikasie

Siklus

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132469

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Relaas van ’n moord

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798135107 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, vertaal deur Karen Press 1997
  • Nederlands, vertaal deur Robert Dorsman 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gedigte 1989–1995

Publikasiedatum

1995

ISBN

1874969124 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Hond

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Country of my skull

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2002

ISBN

  • 0958419515 (pbk)
  • 0958419566 (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Random House

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken

  • Honourable mention Noma Award for Publishing in Africa 1999
  • Sunday Times/Alan Paton Award for Non-fiction 1999
  • South African Booksellers’ Choice Award 1999
  • Hiroshima Foundation for Peace and Culture Award 2000
  • Olive Schreiner Prize 2001

Vertalings

Word gepubliseer in Londen, Amerika, Milaan, Denemarke en Nederland

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kleur kom nooit alleen nie

Publikasiedatum

2000

ISBN

0795701179 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk

Vertalings

Terselfdertyd in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Down to my last skin: poems

Publikasiedatum

2000

ISBN

0958419558 (pbk)

Uitgewer

Kaapstad: Random House

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

FNB-Vita Poetry Award

Vertalings

Terselfdertyd in Afrikaans gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A change of tongue

Publikasiedatum

2003

ISBN

0958446849 (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Random House

Literêre vorm

Non-fiction

Pryse toegeken

South African Booksellers’ Choice Award 2004

Vertalings

  • Ook in Afrikaans gepubliseer
  • Nederlands

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die sterre sê"tsau": Xam-gedigte in, Kweiten-ta-//ken, A!kúnta, Hankass’o en //Kabbo

Publikasiedatum

2004

ISBN

0795701748 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Vertaalde poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The stars say "tsau"

Publikasiedatum

2004

ISBN

0795701756 (pbk)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Terselfdertyd in Afrikaans gepubliseer
  • Nederlands 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Ander tongval

Publikasiedatum

2005

ISBN

 062404209X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Niefiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verweerskrif

Publikasiedatum

2006

ISBN

1415200068 (sb)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Protea Poësieprys 2007

Vertalings

Terselfdertyd in Engels gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Body bereft

Publikasiedatum

2006

ISBN

1415200122 (pbk)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Gelyktydig in Afrikaans gepubliseer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fynbosfeetjies

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781415200223 (hb)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Kinderpoësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Gus Ferguson 2007

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Digter wordende: ’n keur

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798149266 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Begging to be black

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781770220706 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Random House Struik

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skinned: selected poems

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781415203859 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Umuzi
  • New York: Seven Stories Press

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Conditional tense: memory and vocabulary after the South African Truth and Reconciliation Commission

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780857421746 (sb)

Uitgewer

  • Chicago: University of Chicago Press

Literêre vorm

Kultuurgeskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mede-wete / Synapse

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167871 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • ATKV-Woordveertjie vir poësie 2015
  • Elisabeth Eybers-prys vir poësie 2015
  • Hertzogprys 2017

Vertalings

  • Engels 2014
  • Nederlands 2016; vertaal deur Albert Schaffer, Robert Dorsman en Jan van der Haar

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lady Anne: a chronicle in verse

Publikasiedatum

2017

ISBN

  • 9780798175180 (sb)
  • 9781611488159 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Lewisburg, Pennsylvania: Bucknell University Press

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertaal deur Antjie Krog uit Afrikaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hoe alles hier verandert

Publikasiedatum

2018

ISBN

9789057599156 (sb)

Uitgewer

Amsterdam: Podium

Literêre vorm

Nie-fiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertaal deur Robert Dorsman

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Antjie Krog as vertaler

 Antjie Krog as samesteller

 Werke oor Antjie Krog

 LitNet Akademies-artikels

 Keur van artikels beskikbaar op die internet

 Gedigte van Antjie Krog op die internet

 Artikels deur Antjie Krog beskikbaar op die internet

 Plagiaat-debat op LitNet na aanleiding van Stephen Watson se aantygings in New Contrast

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

      • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Antjie Krog (1952–) appeared first on LitNet.

Jeanne Goosen (1938–)

$
0
0

Gebore en getoë

Jeannette Helena Goosen is op 13 Julie 1938 in Parow gebore. Sy word in Parow groot in die dae van George se kafee en Visser se skoenwinkel op die hoek en die Roomse kerk. Haar ma was ’n storieverteller: “Die vreemdste, absurdste goed. Sommer so terwyl sy skottelgoed was. En sy’t gesing. Kastig in Russies. En dan sing ons kinders saam. Ook in Russies!” Sy onthou haar pa met die tuinslang in sy hand en sy liefde vir tuinmaak wat sy geërf het. Sy onthou ook sy vreemde humorsin. (Rooi Rose, 29 Desember 1993)

Op agtjarige ouderdom het sy met klavier begin en ’n paar jaar daarna met die klarinet as tweede instrument. Later verwerf sy haar lisensiaat in klavier aan Unisa, maar sy het dit altyd suiwer vir die plesier daarvan gedoen. “Vir onderrig, nooit,” sê sy.
Jeanne begin as tiener skryf uit ’n emosionele behoefte van liefde, wraak, jaloesie en pyn – op los stukkies papier en in ou oefeningboeke. Op twaalfjarige ouderdom publiseer sy haar eerste poësie in Rooi Rose en skryf sy ook vir Die Jongspan. Haar skrywersloopbaan het rigting begin kry nadat sy op veertien jaar vir die eerste keer Crime and punishment van Dostojewski gelees het: “Die boek het my geruk.”

Jeanne is trots op haar Poolse bloed. Sy het as kind Gorki begin lees en was daarna nooit weer ’n volbloed-Boer nie. Haar eerste werk was dié van junior Kersvader in standerd ses in Ackermans in Parow.

Verdere studies en werk
Na haar skoolopleiding ontvang sy ’n beurs van die Universiteit van Kaapstad en gaan studeer radiografie. Sy werk in hospitale as radiografis en arbeidsterapeut. Sy was egter ook al smous, boer en visserman. As sy haar daarop sou wou toespits, sou sy ’n mikrobioloog gewees het, ’n kernfisikus en veral ’n konsertpianis, maar sy het verkies om outsider te wees, selfs tussen die outsiders.

Een van Jeanne se groot liefdes is musiek. Sy studeer musiek aan die Rondebosch School of Music en is in ’n klassieke rigting opgelei. Sy ontvang formele musiekopleiding onder Magriete Herbst van Parow, Japie Malan en Toronti Florenti van die Kaap. In 2003, met die bekendstelling van Deborah Steinmair se digbundel A see-through suitcase, het Jeanne vir die eerste keer in jare weer voor ’n gehoor klavier gespeel. Steinmair het ook in 2004 die lirieke geskryf vir Jeanne se kabaret Hartedief  wat by die KKNK gehore gaande gehad het.

Jeanne was vir sestien jaar werksaam as joernalis en in daardie tyd was sy verslaggewer by die Transvaler, die Oggendblad, Hoofstad en Tempo terwyl sy in (die destydse) Natal gewoon het en in 1986 by die Paarl Post.

Die 1980’s saam met joernaliste in die Vegkop-hotel in Johannesburg onthou Jeanne met nostalgie. “Die koerant is die enigste plek waar ek eintlik rêrig ingepas het. Dinge wat vir my in ander beroepe nie lekker uitgewerk het nie, was tot my voordeel daar.

“Dis nie meer vandag só by koerante nie. Almal is te bleddie reg in hul koppe, man. Almal is met almal bevriend. In my tyd moes jy betrokke raak by jou onderwerp, nie by die mense oor wie jy skryf nie. Nou’s joernaliste blykbaar hand om die blaas met elke storie wat hulle skryf.

“Voor ’94 het ons ’n saak gehad in Afrikaanse koerante. En ek was gelukkig, want ek kon nogal min of meer skryf wat ek wou, want die ou wat my gestoot het tot waar ek was op die ou end, was Harald Pakendorf. En hy was ’n fantastiese redakteur en mentor gewees.”

Haar joernalistieke loopbaan wissel sy af met van ’n sitrusboerdery by Hartebeeshoek tot visvang aan die Weskus. Sy smokkel met die sitrusvrugte by ’n Griek totdat sy besluit om "eerlik" te wees en liewer haar suurlemoene aan die beurs te lewer. “Maar toe is daar ’n dokstaking. Ek het vir my totale oes net 24c gekry … Weens die staking moes hulle alles wegsmyt … Toe’t ek besluit eerlikheid loon nie; dis sommer nonsens daai. Ek dink ek het smokkelaarsbloed in my.”

Jeanne publiseer in 1971 haar eerste digbundel, ’n Uil vlieg weg, maar sy het nooit rêrig welkom gevoel in die tradisionele letterkunde nie, en omdat sy só ontradisioneel is, het sy ook nooit regtig daarvoor gesoek nie.

In 1986 word ’n Kat in die sak gepubliseer na ’n stilte van elf jaar. Dit bevat verhale wat van 1965 tot 1986 geskryf is. EC Britz skryf in sy resensie in Die Burger (20 November 1988): “Goosen se neiging om bisarre verhaalsituasies op te bou, of om oor ontstellende sake soos lyke en begrafnisse te skryf, hou alles verband met haar ‘gekwelde gees’ as kunstenares, om vir ’n oomblik soos die Dertigers te praat. Agter die soms grappige verbeeldingsvlugte en die pront styl gaan verskriklike gevoelens skuil. Hoewel al die verhale nie op dieselfde peil is nie, het ek die beste verhale in ’n Kat in die sak besonder menslik, eerlik, humoristies, verbeeldingryk, gevoelig en tegnies versorg gevind. Jeanne Goosen het ’n oorspronklike en veelsydige talent as skryfster en ’n onthutsende kyk op die lewe. In haar jongste verhale verwoord sy die skisofrene sosiale situasie in ’n Karoodorp in die jare 1985/1986 op meevoerende wyse.”

In 1987 verskyn die novelle Louoond, met herdrukke in 2010 en ’n e-boek-uitgawe in 2013. Vir Gunther Pakendorf (Die Burger, 6 Augustus 1987) "draai hierdie kort prosateks met ’n ongewone intensiteit om die problematiek van vervreemding en, meer spesifiek, die isolasie van die kunstenaar in ’n ontredderde wêreld sonder hoër waardes of bindende norme. Die uitgangspunt is die situasie van ’n persoon – ’n skryfster - wat in haar kombuis met huishoudelike takies besig is, begelei deur die stem van Callas en études van Chopin op ’n kasset. Terwyl 'n triestige sifreëntjie buite blykbaar nie wil ophou nie, slaan sy haar oë op na die berge, maar weet nie waar haar hulp vandaan sal kom nie, want die hele wêreld is vir haar soos ’n 'vreemde land'.

"Die teks is nie 'n verhaal in die konvensionele sin van die woord nie, maar bestaan eerder uit ’n reeks flitse wat assosiatief en kontrapuntaal aan mekaar geryg is en gedurig na die vraag oor die sin van die bestaan herlei word. Hierdeur word die kombuis simbolies van die afgesonderdheid van die enkeling (en die kunstenaar). Terselfdertyd is die kombuis ’n heelal in die kleine waar die 'lang elegie van die lewe' hom op verskeie vlakke afspeel, byvoorbeeld in die insekwêreld, waar ’n verbete oorlewingstryd die mens se soeke na betekenis relativeer, of in die bevrore varkvleis wat ontdooi, begin lewe en weer van vooraf sterwe."

Pakendorf beskou Jeanne Goosen as ’n skrywer met intelligensie wat haar taalgebruik goed kan beheer. Sy openbaar ook goeie beheer oor haar onderwerp en die algemene aanbieding van haar storie. "In die kortverhaal 'Karoo' (in haar bundel ’n Kat in die sak) het sy die problematiek van ’n veranderende Suid-Afrika baie oortuigend as die verwarrende botsing van wêrelde behandel. Dit is jammer dat sy in Louoond nie daarop voortbou nie, maar haar eerder in haar 'arbitrêre' kombuis terugtrek en toevlug neem tot die ahistoriese fatalisme van ’n (pseudo-) Darwinistiese siening van die mens en sy samelewing, soos blyk uit die groot aantal verwysings na stryd - byvoorbeeld die honde wat ’n hoender doodbyt of Hermien wat visse slag, om van die krioelende insekte nie te praat nie - of na dood, verrotting en ontbinding. In dié opsig is Louoond seker geslaagd, maar tog ’n deprimerende boek."

Sy het in haar lewe al oor die hele Suid-Afrika gewoon – van Pretoria tot die Weskus, Durban, die Karoo, Brixton, Hartebeeshoek, Franschhoek en Aucklandpark. Tans bly sy in Parklands “na die Weskus se kant toe” in ’n woonstelgebou. In ’n stadium tydens haar verblyf in Durban speel sy naweeksaande klavier en sing sy bas in die immigranteklub vir R80 ’n aand.

Sy trek in 2001 na ’n plek tussen Brits en Pretoria-Noord om plek vir haar honde, Bubbles en Wolf, te kry. Haar honde is haar konstante blymaats. Haar twee blymaats was toe Dolores en Mabel. Jeanne het al per geleentheid gesê dat sy diere bo mense verkies. Sy is lief vir die grond, natuur, musiek, skilderkuns, wetenskap en kuns, en wou nog altyd ’n biochemikus of insektekundige wees. Visvang is ook lekkerder as skryf. In die vyf jaar wat sy vis gevang het by Keurbooms, naby Plettenbergbaai, het sy drie boeke geskryf en ook geboer. Sy bring die boot saam toe sy daar weg is. Partykeer vang sy vis by Langebaan, en anderkant by Hermanus en by Velddrif waar sy snoek gevang het met die bakkie, wat sy op die swartmark gekoop het.

Tydens die toekenning van die Afrikaans Onbeperk-toekenning in 1998 by die KKNK sê André P Brink (Beeld, 4 Maart 1998): “Oor meer as twintig jaar het dié besonderse vroumens die taal laat praat en dinge laat sê wat niemand haar nog regtig kon nadoen nie. En dit oor ’n verstommend geskakeerde en gevarieerde terrein: poësie, romans en novelles, kortverhale, teater en kabaret.”

Dit som Jeanne se skryfloopbaan in ’n neutedop op. Sy behaal in al die genres sukses en die bekronings bly nie agter nie. Benewens haar veelbekroonde novelle Ons is nie almal so nie ontvang sy ook die Rapport-prys vir drama in 1992 vir Drie eenakters. Sy wen die Sanlamprys as Rubriekskrywer van die Jaar vir haar rubriek in die Natalse koerant Tempo en ontvang die Helen Maartens Fellowship van Athol Fugard. Kombuis-blues ontvang die Vita-Toneelprys en is in Londen, Frankfort, Brussel, Leuven en Den Haag opgevoer.

Ons is nie almal so nie, wat oorspronklik in 1990 gepubliseer is (13 jaar na Louoond), met verdere uitgawes in 2000 en 2007, is bekroon met die CNA-prys en Rapport-prys in 1990 en met die MNet-prys in 1991.

Oor die ontstaan van Ons is nie almal so nie vertel Jeanne aan André le Roux (Die Burger, 14 September 1991): “Die boek is langhand geskryf. In die bed!” Sonder bepaalde werkwyse of beplanning. “Ek het nog nooit iets in my lewe beplan nie. Ek het siekteverlof gehad en ek kon weer meer lees. Ek hou baie van die kontemporêre Amerikaanse skrywers. Ek het Richard Ford se Rock Springs gelees – die kultus van roadhouses en waitresses en goed ... ek het heelparty boeke in daardie trant gelees. En ek kon sien: maar ek kén ook sulke mense. Dit was vir my ’n geweldige bevryding.” Sy het begin skryf uit haar eie geheue, mense en dinge wat sy onthou het uit haar grootwordjare in Parow in die jare vyftig. Die karakters het maklik gekom: mense soos ant Mavis en Doris en Uncle Tank deur die oë van klein Gertie.

“Toe Uncle Tank in ’n stadium (heel vroeg in die boek) sê jy kan nie so maak met mense nie, al is hulle kaffers, toe het die ding sy eie loop geneem. Maar ek was nie van plan om die boek te publiseer nie.” Sy verduidelik met verwysing na die omstrede ANC-skrywersbesoek in Victoria Falls: sy het die Amerikaanse skrywers soos Ford die vryheid beny waarmee hulle kon skryf . “Ons is weg van die ANC af met feitlik ’n nie-amptelike opdrag om nou, jy weet, betrokke te skryf. Maar met dat ek die tyd gehad het en die Amerikaners so beny het, het ek sommer daar in my bed gelê en begin skryf wat ek self kon onthou.

“Ek dink ook ek kon eerliker wees omdat ek nie van plan was om die boek te publiseer nie. Toe ek kom by Doris wat die koek vir die bruin bure neem en sê ons is nie almal so nie toe hulle dit nie wil vat nie, toe dink ek: wat sal gebeur as ek só ’n boek publiseer. Ek het begin lag, want die boek is so teen letterkunde in; wat sal gebeur as ek my totale reputasie opneuk?”

Skryf is vir Jeanne deel van sosiale betrokkenheid. “Dis verset teen sosiale logika.” En oor die aandrang dat ’n skrywer bepaalde temas moet hanteer, sê sy: “Ek dink dit gebeur vanself in die skryfproses, maar as jou vertrekpunt ’n ideologie is, glo ek vas dit kan nie werk nie, altans nie vir my nie.”

Jeanne vertel verder aan Le Roux dat Ons is nie almal so nie die enigste van haar boeke tot op daardie stadium was wat sy geniet het om te skryf. Sy het ook betrokke geraak by die storie en Gertie, die kind, was ’n nuwe verteller: “Grootmense spreek menings uit en dan word dit kommentaar vir effek. Ek wou nie kommentaar lewer nie; ook nie dat die boek as pleidooi dien vir die Afrikaner nie. Toe het die boek ernstiger geword. Basies is dit so dat voor ’n Afrikaner-kind skoolgaande ouderdom bereik, is hy klaar sielkundig, godsdienstig, sosiaal en polities totaal en al opgeduiwel. En vandag se besluitnemers kom uit daardie agtergrond!”  

Ons is nie almal so nie is deur André P Brink in Engels vertaal en Nederlandse en Franse uitgawes is ook uitgegee. Oor Brink se vertaling het Barend Toerien (Die Burger, 28 Desember 1992) geskryf: “[N]ou kom hy nou met hierdie uitstekende weergawe van Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie, in Suid-Afrikaanse werkersklas-Engels. Goosen se boek, so sappig en bekkig, een wat mens jou beswaarlik in ’n ander taal sou kon indink, verskyn as Not all of Us by Queillerie-uitgewery. En dit klink glad nie soos ’n vertaling nie. Doodnatuurlik, en soos dit verg, is dit deurspek met South Afrikanderisms, dinge wat die lokale Queen’s Englishers so laat gril. (...) Goosen se fyn oor vir spraak word doodreg weergegee. Kyk bietjie: ’nee, sê hy vir my met so ’n stemmetjie, jy weet, hy weet nou nie, maar die laaste trein is al weg ...’ So klink Brink: ’no, he tells me in a whiny little voice, no I’m sorry Madam, but you see the last train’s gone, so I really don't know ...’ Doodreg.”

Jeanne hou van mense wat “nie heeltemal kosher is nie,” erken sy teenoor Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013), “en arm buurte”.

“Daai mense skep taal. Kierkegaard het gesê taal is situasie-gebonde, maar ons is al so normaal en ghrênd ons het nie eintlik meer ’n situasie nie. Daai mense hét en die taal wat daaruit voorkom, is absoluut wonderlik.

Ons is nie almal so nie speel byvoorbeeld in Parow af. Baie mense dink dit is sleng, maar dit is nie. Dit was hoe Afrikaans in die vyftigerjare gepraat is. Nou die heel teenoorgestelde daarvan is ’n Pawpaw vir my darling (2002). Aan daai taal van Pretoria-Wes en daai mense se stories kon ek my verluister. Ek het  baie daar gekom as verslaggewer, want daar was altyd óf ’n moord óf ’n huisbaklei. Eintlik het ek nogal baie tuis gevoel daar. Iets in my kon hulle situasie begryp. En sieners. Daar was baie sieners gewees.

“Eintlik moet ek dankie sê vir die mense in my boeke, want sonder hulle sou ek dit in elk geval nie kon geskryf het nie. Ek dink mense is naar soos ek skryf. Hulle steek dit net weg.”

Kombuis-blues, ’n eenvrouvertoning, is opgevoer met Trudie Taljaard in die hoofrol en Sandra Prinsloo as regisseur. Van die twee vroue wat met haar stuk werk, het Jeanne gesê: ”Net wat dié twee vroue doen, is ’n kragtoer. Dit is vir my ’n groot eer, en ek dink hulle verbeter op my boek. (Vrye Weekblad, 20 April 1990)” Dié stuk het groot opslae gemaak tydens die jaarlikse Leeskringseminaar in 1990 in Welkom, toe die predikant geweier het om ’n tafelgebed te doen na die opvoering daarvan.

Jeanne se kabarettekste en toneelstukke word altyd met groot sukses op die planke gebring. Lizz Meiring en André Stolz speel in 1990 die twee rolle in Jeanne se Kopstukke met Stephan Bouwer as regisseur en in 1991 regisseer Sandra Prinsloo die stuk. Dit is ook in 1990 met groot welslae by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. In 1991 skryf sy die kabaret Nagmerries met Lizz Meiring en Nomsa en Sandra Prinsloo as regisseur, en in 1993 ’n Mens huil nie oor alles nie / If only we had arsenic, ook met Lizz Meiring. By 2003 se Aardklopfees en 2004 se Woordfees en KKNK word haar stuk Desnieteenstaande met Sandra Prinsloo as regisseur met groot sukses op die planke gebring.

Jeanne is ook een van die Afrikaanse skrywers wat die ANC by die Victoria Waterval ontmoet het en dit bly haar by – die ontmoeting met Willie Kgotsisile, Barbara Masekela, Wally Serote en Steve Tshwete. Sy dien in die bestuur van die Afrikaanse Skrywersgilde en is nog altyd gekant teen alle vorme van onderdrukking en sensuur.

By die Woordfees van 2001 is ’n samestelling van Jeanne se werk gedoen deur Susanne Beyers en Joanie Combrink onder die titel Dalk is ons almal só.

In 1995 verskyn ’n Gelyke kans, ’n bundel kortverhale. Hieroor vertel sy: “My stories skryf hulleself. Daar’s geen mistieke proses nie. Al wat ek doen, is om mense dop te hou. En dis die sogenaamde ‘laer klas’ wat my van kleinsaf gefassineer het. Daar is ’n goudmyn van temas, verhale, volkskultuur, bygelowe, trots.

“Ek onthou hoe ek op my eerste skooldag nege-uur die aand deur die Polisie opgespoor is waar ek iewers in die onderdorp saam met ’n regte klomp fietas, ’n gesin van twaalf kinders, in die straat gespeel het. Ek het sommer saam met hulle huis toe gegaan. Dit het so lekker gelyk.

“Ek dink die ophef wat oor stories oor armblanke Afrikaners gemaak word, is omdat ons te gewoond is aan die stereotipe van arm maar edel veral in die geval van vroue. Maar daar was vroue daardie tyd wat lief was vir sonde, wat hul mans verneuk en gerook het, wat gehou het van bioscopes, en as waitresses en usherettes gewerk het.” (Boekewêreld, 19 Julie 1995)

Nou speel Jeanne Goosen in ’n Gelyke kans klaar met dié tema. “Op ’n grandiose manier: geweld, bloed, derms; die antiheld wat met geweld ’n einde wil maak aan die getelery.” Teen die einde van die boek word ’n ander tema sterker: dié van die magiese wêreld van tricks en die sirkus, waar alles wat onmoontlik is, moontlik word. Maar hierdie is ook die wêreld van die outsider, van mense wat ‘anders’ is, wat kan vlieg.

“Elke mens droom een of ander tyd van vlieg. Dink aan daardie kind op die dak met die klip en die laken: die angs en die spanning, maar ook, hel! die ademlose opwinding van net daardie klein kans dat hy tog sal vlieg ...!”

Sedert November 2003 is Jeanne ’n gereelde en gewilde rubriekskrywer in By, bylae tot Die Burger,met haar rubriek Kaalvuis.

Met die verskyning van die novelle Wie is Jan Hoender? in 2001 vertel Jeanne aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 7 Februarie 2001): “Wie is Jan Hoender? is ’n metafoor vir die interafhanklikheid van mens en dier. Hoenders is getem na die mens se wil, maar die mens is ook getem tot opperekonomiese gesag,” sê Goosen.

“Hoenders wat vry rondloop is skaars. Hulle sit almal in broeihokke, hoenderghetto’s waar hulle so gou moontlik eiers moet lê of geslag moet word. So is die mens ook. Hoenders is ’n bloudruk van die mens, wat sonder vlerke en 'n stert is. Mense wil vlug, maar kan nie vlieg nie. Die maatskaplike ineenstorting wêreldwyd is ’n simptoom van die mens se ingeperktheid.”

Haar boek is nie filosofies nie. Dis eerder bespiegelend oor die dilemma waarin die natuur vasgevang is. “Mense verwag seker weer iets snaaks van Jeanne Goosen. Daar’s mense wat dink Ons is nie almal so nie is snaaks. Ek is glad nie f...n snaaks nie. Ek is doodernstig.”

Het sy al deur haar skryfwerk en omswerwinge antwoorde op die lewensvrae gekry?

“Ek vra al twee dekades lank waarheen ek op pad is. Die tegnologie verander en jy kry nuwe insigte, maar jy pas dan net weer jou vrae aan. Ek verstaan nie mense wat sê hulle wil met vakansie gaan om hulself te vind nie. Ek wil myself net verloor.”

Jeanne se eerste digbundel sedert die 1970’s, elders aan diens, word in 2007 gepubliseer. Oor die lang digterlike stilswye sê sy aan Marius Crous (op LitNet) dat sy gedurende dié tyd ander goed geskryf het. Sy het nie opgehou gedigte skryf nie en dit het naderhand opgehoop. Petra Müller het daarna gekyk en gevoel dit kan ’n bundel wees. Die bundel het aanvanklik aantekeninge geheet, maar Müller het nie daarvan gehou nie en elders aan diens voorgestel. “Somehow klink dit reg.”

In hierdie bundel skryf sy oor haar ouers, kreatiwiteit, honde en hoe sy haar krag as kunstenaar ontdek het. In 2008 is elders aan diens verwerk tot ’n kabaret of ’n musiekvertolkingsteaterstuk met sang en aanbieding wat soms aan Laurie Anderson en Diamanda Galas herinner. Marion Holm het die rol van Goosen vertolk, met die sangeres Luna en die aktrise Frieda van den Heever agter die klawers en mikrofone. Albert Maritz was die regisseur. Van Jeanne se gedigte is getoonset en die drie vroue het daarin geslaag om die regte toonaard van waansin, wanhoop, verwondering en humor raak te slaan en die verskillende luime van die digter te vergestalt.

Oor die drama gesels Jeanne in 2008 met Deborah Steinmair (Die Burger, 15 April 2008): “Dis jammer dat skrywers bang is om weer politieke kwessies aan te raak. Mense by ’n fees wil sports hê en lag. Daar moet nog baie oor apartheid geskryf word, lest we forget en dit herhaal, na watter kant ook al. Feeste moet meer uitreik na ander rassegroepe. Dis ’n wonderlike geleentheid om Afrikaans te bevry, te destigmatiseer en depolitiseer.

“Weens ’n gebrek aan geld, is dit dikwels een- of tweemensvertonings, met sepiesterre om vol sale te lok. Jy kan nie ’n woord hoor wat hulle sê nie. Daar het ook goed uit die sepiestergeledere gekom, soos Nina Swart wat besig is om te ontluik in iets groots.

“Daar roer beslis iets onder jong dramaturge: Adriaan Meyer van Stellenbosch en Willem Anker is uitstekend. Daleen Kruger van Langebaan se goed het lyf. Nico Luwes se Zollie van 2005, wat oor straatkinders handel, was skitterend. Hy is by Kovsies se dramadepartement. Die Vrystaat kom met wonderlike goed vorendag.”

Goosen het drama studeer aan die Akademie van Dramakuns in Kaapstad, waar die basiese beginsels, soos artikulasie, by hulle ingedril is. Sy wou nooit self toneel speel nie; sy wou net meer van drama weet, met die oog daarop om dramas te skryf.

“My eerste drama was Kombuisblues in 1992. Trudie Taljaard wou dit doen, Sandra Prinsloo was regisseur. Dít was vir jou ’n produksie! Sandra is my mentor. Ek wens sy wil weer meer speel. Sy het ’n emosionele intelligensie wat skrik vir niks en ’n fyn sin vir satire. Sy is deeglik en vreesloos, laat haar nie intimideer deur politieke temas nie. Sy is moeilik, maar dis nodig. Sy het my baie vasgevat. Ek was dikwels in trane. As sy vlamvat, bly daar f–k–l van jou oor. Die volgende dag kom sy daar aan met R100 en tien pakkies sigarette, want sy weet jy’s broke. Dan’s alles weer orraait.

“Ons was so begeesterd daardie dae, iets het verkeerd gegaan, ons het nie meer genoeg kontak met mekaar nie. Skryf is ’n geweldige geïsoleerde oefening.”

Goosen reken goeie stukke is tydloos. “Van Wyk Louw kom terug, Raka; Bartho Smit ook, soos Bacchus in die Boland. Heelparty van Smit se dramas was verbied in die ou bestel. Uys Krige is ook gesensor. Wilma Stockenström het vertel sy was in ’n stuk van hom toe die boodskap kom: ‘Poep’ en ‘God’ is uit’.”

Hoe skryf ’n mens ’n drama? Goosen meen alles begin by die idee, jy brei daarop uit en sodra jy daarop ingestel is, begin jy dinge om jou opmerk wat kan werk in jou drama. Die belangrikste is ­dialoog tekenend van die karakters. “Dieselfde geld by drama as by ’n roman: waarneming en absorbering. Dit lê onder ’n ou se neus. Ek het geskryf om werk te verskaf. Ek skryf altyd sodat enige ouderdom dit kan speel. Jy moet dit só skryf dat dit op enige plek opgevoer kan word, selfs in ’n skoolsaal. Van die sketse uit my kabarette is al gebruik vir die opening van blomtentoonstellings en geld­insamelings vir die kankervereniging. Dramas beteken min geld vir die skrywer. Drama is ’n k–k show.” (Die Burger, 15 April 2008)

In 2009 is Jeanne se kortverhaal “Spokie Snygans maak sy buiging” verwerk vir die verhoog en was dit die Universiteit van die Vrystaat se inskrywing vir Spat (Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater). Dit was een van die finaliste vir die prys.

Ná ’n kortverhaalstilte van 15 jaar verskyn Plante kan praat in 2010. Die karakters in Plante kan praat herinner die leser aan die karakters van Ons is nie almal so nie soos Joey van Parow wat haar sigaretstompie in ’n piering doodruk. "Die skrywer ondersoek ook ’n magiese, soms donker wêreld. Dwarsdeur alles loop plante, musiek, diere en woorde soos ’n goue draad – dinge wat balsem word vir die siel, skryf Riette Rust (Rapport, 3 Julie 2010). "Plante kan praat is beslis ’n lees werd met interessante temas, karakters wat lewe en dialoog wat vlot. Die minimalistiese taal dwing bewondering af en die meeste verhale is goed gestruktureer."

Cilliers van der Berg skryf as volg oor Plante kan praat (Volksblad, 14 September 2010): “Dit gaan hier oor ’n betreklik eklektiese versameling van 16 kortverhale, om die bundel eerder as ’n soomlose en koherente tematiese eenheid daar te stel, ’n verskeidenheid verhaaltipes te vertoon: van tekste wat op realistiese wyse die subkultuur en geweld van die minder gegoede buurte beskryf (‘Malva’, ‘Spokie Snygans maak sy buiging’, ‘Hulle noem my Jean’), tot by die op die oog af soms byna allegoriese beskrywings van magiese gebeure (‘Lubbert Das’ of ‘Begeerte’). Die bundeltitel en omslag moet dus nie om die bos lei nie – dit is slegs in die titelverhaal waar plante letterlik aan die woord kom.

“Die tipiese Goosen-temas, -motiewe en -maniere van vertel is egter daar: Parow, geweld, agterlikheid, die gereelde kinderperspektief waaruit vertel word en ’n goeie skeut (soms baie grafiese) seks. Wat laasgenoemde betref, is dit die openingsverhaal (‘F**ked for life’), en veral ‘Wolwors’, wat vir sommige lesers dalk ’n ding of twee sal leer. Want soos wat Marna in eersgenoemde sê: ‘Dis my gat se deksel, ’n literator wat geen sin, laat staan nog begrip, vir erotiek het nie.’

“Maar ook die geweld kom aan bod – en dit alles in ’n onopgesmukte, gestroopte taalgebruik. Dít is waarskynlik juis die belangrikste samebindende faktor van die verhale.
Die verhale is nie almal van gelyke gehalte nie en sal oor die algemeen dus nie ná ’n herlees noodwendig opnuut ontsluit kan word nie. Binne die konteks van Goosen se hele oeuvre is van die motiewe dalk ook net te bekend. Maar dit beteken hoegenaamd nie die bundel is nie ’n baie interessante leeservaring nie.

“Goosen se vermoë om met die besondere taalregister wat sy handhaaf karakters en gebeure te laat leef, of die leef- en verwysingswêreld van sekere maatskaplike klasse te evokeer en in te kleur, is werklik goed. Soms is dit die eenvoud van vertel wat ’n verhaal soos ‘Lemoene’ laat uitstaan. Plante kan praat kan aanbeveel word vir diegene wat aanklank vind by Goosen se werk. Dit is eerder ’n bestendiging as hoogtepunt in haar oeuvre, maar vir iemand wat haar tyd verwyl ‘met plante, diere, musiek, skryf en so aan’ tog ’n beduidende bydrae.”

Op 24 Februarie 2011 is Jeanne in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem nadat sy ’n hartaanval gehad en haar huishulp haar in haar woonstel in Parklands in Kaapstad gekry het. Sy sou ’n pasaangeër kry, maar was te swak vir die operasie en moes aansterk voordat die operasie gedoen kon word. Die pasaangeër was vir haar ’n vreemde gedagte. “Ek het altyd gedink dit lyk soos ’n sigaretboksie met ’n hart in, maar deesdae klink dit of elke Jan Rap en sy maat een het. Ek sal moet gaan oplees oor die ding.” (Nuus24, 25 Februarie 2011)

Sy het haar geliefde honde geweldig gemis, hoewel sy nie gedink het hulle het haar te veel gemis nie. “Jy kan ’n hond se siel mos maklik vir ’n stuk droëwors verruil.”

Jeanne se honde is vir haar soos kinders. Katte is vir haar anders as honde, omdat hulle vir hulself kan sorg, terwyl “elke haar op daai hond se lyf afhanklik is van jou”. In 2012 moes sy vir Poppie, ’n “staffiekruis”, laat uitsit nadat sy ’n hartaanval gekry het. Sy het haar in Johannesburg gekry toe sy ’n storie oor die DBV gedoen het. “Toe sit hierdie hondjie daar verlore en ek sê vir die mense: ‘Maak haar reg, ek kom haal haar môre’,” vertel sy vir Murray la Vita (Die Burger, 17 Maart 2012).

Jeanne het met honde grootgeword. “Toe my ma met my pregnant was, het sy ’n wit-en-bruin pekinees gekoop. Haar naam was Toodles. Ek was ’n baie energieke kind. Soms het my ma Toodles saam met my in die cot gesit en ’n bietjie musiek aangesit. Dan was ek ­rustig.”

Jeanne sê sy wou ’n ophef maak van Poppie. Sy het dit oorweeg om ’n doodsberig in die koerant te plaas: “Tot weersiens, lojale vriend.” Sy het al dikwels vir La Vita gesê die mens het vir hom ’n lojale vriend geteel, maar dit is iets wat hy nie self kan wees nie.

“My enigste begeerte was dat my honde voor my moet doodgaan. En nou is enetjie dood en dit is vir my hel. Dolores is nog baie spelerig, maar haar beurt kom ook. Sy is ook 12 en die veearts sê labradors maak dit nie veel ouer as 11 nie.”

Tydens die KKNK van 2012 is Kopstukke weer op die planke gebring met Sandra Prinsloo as regisseur en Lizz Meiring en André Stolz in die rolverdeling. Sandra Prinsloo het die stuk as “’n portret van die huwelik” beskryf. 

André Stolz, wat saam met Lizz Meiring in die stuk te sien is, sê die komedie dek ’n hele palet van emosies: “Teatergangers lag dat jy hulle wie weet waar hoor, maar daar is tye wanneer hulle tjoepstil word.” 

Meiring en Stolz speel man en vrou wat albei ná ’n motorongeluk van die nek ondertoe verlam is en in hul dubbelbed gekluister lê. Die man is ’n professor in filosofie wat sy intellek en spitsvondigheid as wapen teen sy middelklas-vrou gebruik. Sy is nie naasteby op sy intellektuele vlak nie, maar sy weet hoe om hom met vroulike aanvalle terug te kry.

“Die twee se houding en siening wissel voortdurend. Kwinkslae word kwistig heen en weer geslinger en oomblikke daarna raak hulle weer diepsinnig. Selfbejammering is nie deel van die teks nie, hoewel die vrou tog haar man vir die ongeluk verwyt,” sê Stolz.

Goosen het Kopstukke sowat 20 jaar gelede vir Meiring en Stolz geskryf. Sy was in daardie stadium ’n koerantjoernalis in Pretoria en het die stuk gegrond op berigte wat in die koerante verskyn het. Kopstukke is die eerste keer in 1991 opgevoer en weer in 2001. Prinsloo en Kosie Smit is van die begin onderskeidelik die regisseur en vervaardiger. 

Oor die ontstaan van Kopstukke vertel Jeanne aan Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013) dat André en Lizz een aand by haar huis aangekom het en gesê het hul toneelstuk vir die Potpourri-fees “is ’n total flop – kan ek nie iets vir hul skryf nie. Toe sê ek eers: ‘Maar is julle mal? Dis oor twee weke, man!’ En toe sê ek: ’nee maar goed, dan sit ek julle in die bed en julle’s verlam.’ En dis hoe dit begin het. En vir die dekor vat ons sommer ’n bossie kosmos, want dit pluk jy verniet langs die pad en ons moes met daardie Potpourri-fees self vir rekwisiete en goed betaal.

“Daai stuk het toe vir my die anatomie van die huwelik geword: Jy lê later in ’n mekaar se dinges, maar jy’s verlam. Jy kan nie daar uit nie.”

Jeanne vertel tydens die Woordfees van 2013 aan Danie Marais (Die Burger, 15 Maart 2013) dat sy nog ’n drama klaar het. “Ek dink dit kan nogal ’n bom wees, want dit gaan oor wrywing in die Kaap tussen die bruin en die swart mense. Op ander plekke in die land moes baie boere hul grond afstaan omdat swart mense eerste daar was. Maar die Khoi-San en hul voorgeslagte was eerste in die Kaap – eeue nog voor Jan van Riebeeck. En dis vir my baie tragies wat besig is om met hulle te gebeur, want die tikverbruik is iets ontsettends en jy sien wonderlike mense totaal en al ondergaan oor hulle nie werk het nie. Ek kon nooit  verstaan waarom niemand daaroor skryf of moan daaroor in die koerante nie. Maar dié drama het sy humor darem ook in. Ek weet net nie vir watter regisseur om dit te gee nie.” 

Sy is ook druk besig met ’n boek wat uit drie novelles bestaan. Oor die inhoud was sy effe vaag, maar sy reken dit is nogal surrealisties en die een verhaal het ’n sterk musiektema.

Oor haarself het Jeanne aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 19 Julie 1995) gesê: “Ek’s nie moeilik nie. Ek is intens, ja. Ek’s ’n baie intense, emosionele mens wat met al my gevoelens op my mou loop. Ongelukkig laat dit mense skrik. En ek het ’n diep stem. ’n Militante stem. Maar ek haat geweld, en ek is naïef. Ek het na myself gekyk op daardie vroueprogram op TV en gedink: got, Jeanne, jy’s só naïef.”

Daar is wel ’n familiegeskiedenis van endogene depressie, wat haar by tye onmoontlik maak. “Dan sien ek g’n siel nie. Ek gaan koop groceries, soveel as wat ek kan. En ek kook dat die walms in die straat afgaan. Dit was die inspirasie vir Louoond. En ek rook dat die bolle so staan. En plant, blombolle, steggies, enigiets. Ek luister musiek. Ek skilder mure. Maar ek lees niks nie. En ek skryf niks nie. Eers as die hond tot satwordens toe gevoer is, die vrieskas uit sy nate bars en die blare van die eerste bolle begin wys, is die depressie verby en kan ek weer begin werk.”

Jeanne was self nog nooit getroud nie. “Die huwelik is uit die oude doos. Ek weet nie waarom mense dit nog doen nie. Ek is buitendien liewer vir diere as vir mense. Ek het elke langnaweek en vakansie altyd in die Wildtuin deurgebring. Dit was vir my die wonderlikste om te sien hoe ’n groep bobbejane daar sit en kibbel, of ’n trop olifante met die kleintjie by ... en hulle gewoontes. Dan het ek altyd hierdie ongelooflike warmte gekry, ’n welgeluksaligheid. Ek het nog nooit so teenoor ’n mens gevoel nie. Ek moet darem bysê, ek was nooit seksueel aangetrokke tot diere nie.”

Sy was twee en ’n half keer verloof (aan mans) en “ek het na weerskante toe geëksperimenteer tot ek besef het, hoor hier, dis nie my emmer k*k daai nie. Forget about it. Want jy weet as jy eers begin verloof raak,” verduidelik sy aan Marais, “dan begin dit daai ding word wat Kopstukke is. As jy die aand stil is, dan’s dit ‘Waaraan dink jy?’ en ‘Is daar ’n probleem?’. Jy kan nooit eintlik jouself wees nie.

“As jy lief is vir diere, het jy ’n ander uitkyk. Iemand het eenkeer vir ’n vriend van my gesê: ‘Wat de hel makeer daai Jeanne Goosen? Eers praat haar hoenders, nou praat haar honde. Nou hoor ek haar plante praat ook.’”

Sy vind nog altyd haar troos in haar klavier en haar geliefde Chopin en Liszt. “Dit en ‘Mammy Blue’. Ek het besluit as ek veras word, moet iemand ‘Mammy Blue’ sing. En as die rokie opgaan, ‘I’ve got rhythm’,” vertel sy aan Danie Marais.

Publikasies:

Publikasie

’n Uil vlieg weg

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1988

ISBN

0624026914 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om ’n mens na te boots

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1986

ISBN

  • 0628008457 (hb)
  • 079861739X (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Orrelpunte

Publikasiedatum

1975

ISBN

0628008465 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die groot griep

Publikasiedatum

[198-]

ISBN

 

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Geskiedenis (kinderboek)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brood-hooglied

Publikasiedatum

[198-]

ISBN

 

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Resepte

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Kat in die sak

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798620587 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Louoond

Publikasiedatum

  • 1987
  • 2010
  • 2013 (e-boek)

ISBN

  • 0798623047 (sb)
  • 9781869193072 (sb)
  • 9781869198756 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons is nie almal so nie

Publikasiedatum

  • 1990
  • 2de uitgawe 2000
  • 2007

ISBN

  • 0798630663 (sb)
  • 0795701160 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM-Literêr
  • Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • CNA-prys 1990
  • Rapport-prys 1990
  • MNet-prys 1991

Vertalings

  • Engels; vertaal deur André P Brink 1992; 2007
  • Nederlands; vertaal deur Riet de Jong-Goossens 1993
  • Frans 1993

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie eenakters: Kombuis-blues; Kopstukke; ’n Koffer in die kas

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798632942 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Rapport-prys 1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

o.a. Daantjie Dromer

Publikasiedatum

  • 1993
  • 2de druk 1993

ISBN

1874901104 (sb)

Uitgewer

Strand: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Gelyke kans

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134003 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wie is Jan Hoender?: ’n novelle

Publikasiedatum

2001

ISBN

0795701276 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Straataf

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799329398 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

’n Pawpaw vir my darling

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2006
  • 2007

ISBN

  • 0795701454 (sb)
  • 9780795702419 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

elders aan diens

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780980260663 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Genugtig! Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Publikasie

Plante kan praat

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780795703003 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings op die internet

Vertalings deur Jeanne Goosen

  • Fast, Julius: Die mag van houding. Pretoria: Daan Retief, 1981 [ISBN 0868143502 (hb)] – Afrikaanse vertaling van Body politics: how to get power with class
  • Berry, Mary: Prutpot-etes. Johannesburg: CNA, 1982 [ISBN 0620059443 (hb)] – Afrikaanse vertaling van One pot cooking

’n Keur van artikels deur Jeanne Goosen op die internet

’n Keur van artikels oor Jeanne Goosen op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Jeanne Goosen (1938–) appeared first on LitNet.

Johann de Lange (1959–)

$
0
0

Sêgoed van Johann de Lange

"’n Jong digter skryf aanvanklik met sy verbeelding, met die genade van tegniek. Maar algaande begin hy meer uit ervaring skryf. Hy leer dat elke gedig eers geleef moet word en hy besef ook die prys wat hy moet betaal. Baie mag dit afmaak as ’n romantiese siening van die skrywersambag, maar daar is ’n prys: jou liefde vir die aarde en vir mense, jeug en skoonheid word sterker en meer genuanseerd soos jy onkeerbaar nader beweeg aan die dood. ’n Mens moet leer om afstand te doen, te kan laat gaan." (Die Burger, 18 Oktober 1986)

Skryf is harde werk: "Jy moet jou ambag ken: taal, woorde, woordeboeke, simboolwoordeboeke, lees en nogmaals lees. Ek plaas ’n hoë premie op tegniek omdat dit jou help om jouself akkurater uit te druk. Dissipline is noodsaaklik wanneer ’n mens werk met iets so ongevormd soos ervarings, drome of die onderbewuste."

"I don’t romanticise poetry. I’m a craftsman. Although poetry originates from the heart, your brain should take it further. Paradox fascinates me. There should always be tension in a poem ... between images and words."

"I don’t think I have written anything while I was happy. If I did, it was inferior."

"Ek glo ’n digter se taak is net om elke gedig wat hy skryf so deeglik as wat moontlik is op daardie stadium, te skryf. Die res is van die gode afhanklik."

"’n Mens kan nie ’n gedig vertaal as jy dit nie baie goed verstaan nie. Die manier waarop ek vertaal, is ’n vorm van close reading. Ek haal die gedig uitmekaar en die vertaling word ’n herinterpretasie. Jy moet weer ’n lesing van die gedig laat realiseer." (Die Burger, 24 Julie 2007)

Oor Sheila Cussons: "Vir my eie vorming as digter was en bly haar gedigte kosbaar. Sy was vir my ’n leermeester sonder dat sy dit geweet het, ’n standvastige vriend in ’n wêreld waarin ek my dobberend gevoel het. En sy was van ons eerste kennismaking (op papier en in die vlees) sonder twyfel jonger van gees as ekself en die meeste van my tydgenote. Sy het ’n ewige jeugdigheid behou en ’n onblusbare nuuskierigheid na die lewe. Met die gerfie briewe aan my het sy my met padkos gelaat vir die jare wat voorlê." (Die Burger, 27 November 2004)

Oor skryfskole: "Ek weet nie of ’n skryfskool van iemand ’n skrywer kan maak nie. Ek glo wel dat mens enigiemand béter kan leer skryf. En dat jy diegene met ware talent kan help om hulle stem vinniger te vind. Al wat ’n skryfskool die jong digter uiteindelik kán bybring, is tegniek. [...] Een stukkie raad gee ek sélf nou aan beginners: lees, lees, lees." (LitNet ABSA Ketting)

"My fokus met ’n skryfskool is dus eerder om voornemende skrywers beter lesers van hulle eie werk en van ander se werk te maak. Almal wat in ’n skryfskool sit, is daar omdat hulle ’n liefde vir letterkunde het. Maar nie almal gaan dit uiteindelik maak as skrywers nie. Nie eers dié met talent nie. Dit vat toewyding en determinasie en dikvelligheid om te slaag. Watter beter manier om jou liefde vir die vak te kan uitleef as om as ’n beter, ’n fyner leser van poësie daar uit te stap?" (LitNet ABSA Ketting)

"Kyk, digters, net soos vroue, kan nooit werklik vriende wees nie. Hulle is afgunstig op mekaar ... Die gedigte kan saamslaap, maar ek dink dit is beter dat die digters hul plek ken. In iedere geval: Die afwesigheid van afguns is die Kainsmerk van ’n mindere digter."

"Soos predikante ’n gemeente gebruik om hul siele te red, word die poësie die medium vir die digter om neuroses te besweer. Die digter is ’n outo-psigiater ... En ons skryf natuurlik almal skaamteloos om roem te verwerf."

"Dis nie aangenaam om agter te kom jy skok mense nie. Dit gebeur dat jy so in ’n enklave leef dat jy nie agterkom hoe gewone mense dink nie, dat jou private mitologie nie hulle s’n is nie. Die skrywerswêreld is eintlik ’n onnatuurlike een, waar niks taboe is nie. En dan vergeet jy die buitewêreld werk anders."

"’n Mens moet voortdurend bewus bly dat die publiek jou werk anders gaan ervaar as jy self."

"Ek soek nou iets anderster. Ja ... ek soek oorrompelende ervarings. Ek dink ’n mens moet verby die banaliteite kom van net gewone lewe. Ek is op soek na wat iemand genoem het ravishing experiencesI want to be ravished, jy wil nie net ... jy kry dit met seks en met dwelms." (Die Burger, 27 Februarie 2009)

"Kyk, digters, net soos vroue, kan nooit werklik vriende wees nie. Hulle is afgunstig op mekaar ... Die gedigte kan saamslaap, maar ek dink dit is beter dat die digters hul plek ken. In iedere geval: Die afwesigheid van afguns is die Kainsmerk van ’n mindere digter."

"Soos predikante ’n gemeente gebruik om hul siele te red, word die poësie die medium vir die digter om neuroses te besweer. Die digter is ’n outo-psigiater ... En ons skryf natuurlik almal skaamteloos om roem te verwerf."

"Dis nie aangenaam om agter te kom jy skok mense nie. Dit gebeur dat jy so in ’n enklave leef dat jy nie agterkom hoe gewone mense dink nie, dat jou private mitologie nie hulle s’n is nie. Die skrywerswêreld is eintlik ’n onnatuurlike een, waar niks taboe is nie. En dan vergeet jy die buitewêreld werk anders."

"’n Mens moet voortdurend bewus bly dat die publiek jou werk anders gaan ervaar as jy self."

"Ek soek nou iets anderster. Ja ... ek soek oorrompelende ervarings. Ek dink ’n mens moet verby die banaliteite kom van net gewone lewe. Ek is op soek na wat iemand genoem het ravishing experiencesI want to be ravished, jy wil nie net ... jy kry dit met seks en met dwelms." (Die Burger, 27 Februarie 2009)

"Pryse het absoluut niks met die bedryf van skryf te doen nie, en kan trouens baie skadelik wees. Daar is skrywers wat stilgemaak is deur pryse, wat hulle mojo verloor het. Dis gesond om ’n prys net as ’n som geld te beskou, en nié as enige aanduiding van jou talent of die gehalte van jou skryfwerk nie. Dáárvan is jy sélf die enigste maatstaf." (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011)

"Ek het ’n ideale leser in gedagte wanneer ek skryf, maar die éérste leser van my gedigte is ek self – dís wie ek in die eerste plek moet tevrede stel, en ek is baie hard op myself. Nie dat ek kla nie; ek geniet die sukkel met die skryf báie meer as die voltooide gedig. Betekenis in die natuur is áltyd funksioneel (al vind ons dit ‘mooi’), en ons is die enigste spesie wat betekenis genereer vir die blote plesier daarvan." (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011)

Oor vertalings van gedigte: "Ek doen graag vertalings, omdat ek altyd as ek ’n mooi gedig in ’n ander taal teenkom, graag wil hoor hoe hy klink in my taal. En dan is vertaling ook baie goeie oefening. Dit dwing jou om na oplossings te soek, om nuwe woordeskatte te verwerf, nuwe digvorme. En dit leer jou ook – op wat seker as reverse engineering beskryf kan word – die fabrieksgeheime van ander digters. Ek doen vertaling in die droë tye wanneer ek sélf nie skryf nie. Dit hou jou hand in, by wyse van spreke. En dit hou my uit die kwaad, noudat ek te oud geword het daarvoor." (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011)

Een les wat Johann by André P Brink geleer het en waarby ander jong digters kan baat: "Een van die belangrikste dinge wat hy my bygebring het (benewens lees, lees, lees!), is om telkens wanneer ek van ’n gedig hou, te probeer vasstel wáárom ek van die gedig hou, en hoe die digter sy of haar effekte bereik. Ek het amper groter plesier daaraan om gedigontledings te lees as die gedigte sélf. Ek wil weet hóé die digter doen wat hy doen. So brei jy jou tegniese register uit." (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011)

"Skryf het my ’n wonderlike, verrykende lewe besorg, vol mense wat ek andersins nooit sou leer ken het nie. My beskeie talent het vir my deure oopgemaak na vriendskappe met werklik groot skrywers en digters in ons taal, en met visuele kunstenaars ook, en dít verruil ek vir niks nie. In daardie sin dan sal ek nie, wíl ek nie, van die poësie afstand doen nie. Selfs al hou ek op met skryf, sal ek nooit ophou lees nie." (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011)

Wat was sy grootste prestasie? "Ek kan op geen prestasies aanspraak maak nie. Alle goeie dinge wat ooit met my in my lewe gebeur het, was sonder my toedoen, en dikwels ten spyte van myself. Ek het ’n báie toegewyde beskermengel." (Die Burger, 13 Januarie 2012)

"Skryf is baie belangrik in my lewe, maar ek sal dit nie die groot liefde van my lewe noem nie." (Die Burger, 13 Januarie 2012)

Oor watter gawe sou hy die graagste wou beskik? "Hieroor het ek baie gepeins: rykdom, roem, ewige jeug? Maar enige van daardie drie in mý hande sal nie ’n goeie idee wees nie. So eerder iets soos die vermoë om enige siekte onder die son te kan genees." (Die Burger, 13 Januarie 2012)

Wat presies is ’n gedig? "Oor presies wat ’n ‘gedig’ is, word daar al eeue lank gekibbel. Vir my is daar rofweg drie kenmerke wat in verskillende verhoudings in elke gedig voorkom: Die vooropstelling van die taal, die gebruik van metafore en ander stylfigure, en ’n uitbuiting van die ritmiese aspekte van taal. Wanneer jy ’n gedig beoordeel, moet jy kyk wat die digter wil bereik, watter formele riglyne hy gekies het en in watter mate die gedig die absoluut beste gemaak het van daardie riglyne." (Rapport, 9 Februarie 2013)

Oor die "publikasie" van gedigte deur ieder en elk op byvoorbeeld Facebook: "Die huis van poësie het baie kamers. As iemand vir eie plesier skryf, is dit in orde, maar as daai mens besluit wat hy of sy skryf, is poësie, gaan dit gemeet word aan sekere standaarde. Dit is moontlik dat die skrywers van 'swak' poësie kommersieel suksesvoller loopbane kan hê as ernstige digters wat harder werk. Soos by populêre Afrikaanse musiek. Bitter min van die suksesvolle sangers kan twee ordentlike reëls aanmekaarlap, maar hulle verkoop duisende. Dis ’n bitter pil, maar ons moet hom maar sluk." (Rapport, 9 Februarie 2013)

"As laerskoolkind was dit vreemd genoeg die humoristiese gedigte wat my getrek het, en ek kies as vriende mense wat my laat lag, mense wat humor geniet, hoe donkerder hoe beter. Is humor nie dalk een van die menslikste van eienskappe nie?" (Beeld, 8 Oktober 2013)

"Jy is nie net 'n digter wanneer jy gaan sit om te skryf nie, maar elke oomblik van jou dag, in alles wat jy dink en doen. In alles wat jou brein en sintuie registreer, is jy is besig om te skryf. As dit nie die geval is nie, moet jy maar ophou." (Johann de Lange op Facebook)

Gebore en getoë

Daniël Johannes de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore – tussen die sterretekens van die boogskutter en die steenbok: "jagter én prooi, een aspek van die paradoks wat ek in my poësie ontgin". Sy ouma, by wie hy die grootste deel van sy jeug deurgebring het, het hom Kas genoem en op hoërskool is hy Daniël genoem. Omdat hy saam met ’n neef wie se naam ook Daniël is, op universiteit was, het hy besluit om homself te hervernoem na Johann.

In ’n onderhoud in Die Burger van 27 Februarie 2009 vertel Johann dat hy, soos enige kunstenaar, "’n unhappy jeug gehad het". "Ek het grotendeels by familie grootgeword. Ek en my ouma het dikwels saam van gesin na gesin verhuis, want sy het my basies grootgemaak. Ek het baie min kontak gehad met my ouers, en die paar keer wat ek wel met my pa kontak gehad het, was dit nie altyd gelukkige omstandighede nie."

Hy bring sy skoolloopbaan hoofsaaklik op plase deur. Sy eerste skool was Wonderboom-Suid Laerskool en hy woon daarna nog ses ander laerskole by. Johann voltooi sy hoërskoolloopbaan in 1977 aan die Hoërskool Hans Strijdom op Naboomspruit. Hy bly in die Sekelbos-seunskoshuis en gaan naweke saam met twee neefs na hulle plaas naby Sterkrivier. "[My] vyf jaar in die Waterberge was rustig, vol gebeure, en redelik ongekompliseerd. Die enigste werklike bekommernis was om ’n ordentlike rapport plaas toe te bring. Die sambok is ’n harde leermeester" (in ’n biografiese skets aan Naln).

Johann begin in standerd 4 onder aanmoediging van Frik Pieterse verse skryf, "erg onder die invloed van Jan FE Cilliers". Sy eerste gedig handel oor die vier seisoene. Hy leef, eet, slaap en skryf gedigte deur sy skooljare. In standerd 8 kry hy ’n tikmasjien present en publiseer gedigte in die hoërskool se koerant, Die Leeutjie. Hierdie gedigte was meestal satiries van aard en "met presieuse aandag bestee aan verbeeldinglose ryme".

Verdere studie en werk

Na matriek is Johann na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1978 die eerste jaar van ’n BSc voltooi. Hy skakel egter die volgende jaar oor na ‘n BA en voltooi sy eerste jaar aan die einde van 1979. Gedurende sy tweede jaar ondervind hy egter persoonlike probleme en staak sy studies in 1980. Daarna gaan werk hy by Volkskas Bank as bankklerk. "[Ek] het geen besondere liefde vir bankwerk nie, benewens [my] liefde vir geld. Dit was bloot die eerste werk waarvoor [ek] aansoek gedoen het." Hy vertel aan Alice Coetzee van die Pretoria News dat hierdie 8-tot-4-werk hom stimuleer as kreatiewe skrywer: "Daar is ’n spanning tussen die twee. Die werk is vervelig en geroetineerd, nader aan die einde van die dag is ek so moeg dat ek nie lus is vir skryf nie. Dan raak ek depressief en die depressie stimuleer my om te skryf."

Tydens sy studiejare aan die Universiteit van Pretoria is hy stigterslid van die literêre tydskrif Ensovoort. In die negentigerjare bied hy ook ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan by Unisa se Instituut vir Voortgesette Opleiding, en by geleentheid ’n poësiewerkswinkel by die Noordwes-Universiteit. Na sy verhuising na Kaapstad bied hy ook vir twee jaar ’n poësiewerkswinkel by die Universiteit van Kaapstad aan.

Johann gaan werk later by ’n boekhandelaar in Pretoria en is tans werksaam by Exclusive Books in Kaapstad.

In 1979, tydens sy tweede jaar op universiteit, sluit hy by die universiteit se letterkundekring aan en besef hy vir die eerste keer hoe swak sy gedigte werklik is. Hy publiseer in die groep se lyfblad vlieg, en die derde uitgawe van die blad word verbied as gevolg van Johann se verhaal "Die seduksie" en Koos Prinsloo se verhaal "Skrot". Hulle twee, sowel as die redaksie, verskyn voor die tugkomitee en almal ontvang ’n opgeskorte vonnis. Johann is kort voor hierdie insident tot die redaksie van die studentekoerant Die Perdeby toegelaat, maar word dadelik geskors en verbied om in die redaksie van enige universiteitspublikasie te dien.

Hy begin in 1980 gedigte aan André P Brink stuur vir kritiek en ontvang aanmoediging en waardevolle leiding. Hy publiseer vanaf 1980 in Standpunte en verse verskyn onder meer ook in spadoEnsovoortThe bloody horse en Graffier.

Johann debuteer in 1982 by Human & Rousseau met Akwarelle van die dors. Hierdie bundel word in 1982 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Daarna volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986), Wordende naak (1988), waarvoor hy die Rapport-prys vir Poësie in 1990 ontvang, Nagsweet (1991), Vleiswond (1993) en Wat sag is vergaan (1995). Hy maak in 1996 sy kortverhaaldebuut met Vreemder as fiksie en in 2000 verskyn Tweede natuur. Laasgenoemde handel oor sy ervarings van die rave-toneel, Ecstasy en wat daarmee gepaard gaan.

Johann is saam met Antjie Krog die samesteller van Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde en ook Soort soek soort: ’n versameling alternatiewe ervarings.

Johann verduidelik die ongewone titel van sy eerste bundel, Akwarelle van die dors, só: "’n Akwarel is ’n waterverfskildery. Dit is ’n paradoks dat ’n mens met water die dorse – tekorte – in die lewe skilder." Oor die inhoud van die bundel brei hy as volg uit teenoor Mickie Pistorius in Die Transvaler van 23 Julie 1984: "[Ek] dig graag oor die wisselbaarheid van die mens en die natuur. Soms handel ’n gedig oppervlakkig oor die natuur en as ’n mens dieper lees, handel dit oor die mens. Elke klein prosessie wat in die mens plaasvind, vind op groter skaal in die natuur plaas. Dit teleskopeer wyer uit – van die besonderse na die universele."

Oor Akwarelle van die dors het André P Brink in Rapport van 16 Januarie 1983 geskryf dat daar netheid en ekonomie rondom die gedigte in hierdie bundel is – iets wat heelwat goeds vir die toekoms beloof.

"Die mooi gekose titel kom uit ’n vers van Lucebert, waaruit ’n vergeefse hunkering tot vereenselwiging met die andere spreek: vergeefs, omdat die dors nie met water geles kan word nie, maar hom moet tevrede stel met waterverf. In die akwarel kan hoogstens die 'dolsinninge' dors van die mannetjiesby geteken, verbeeld word.

"Be-tekening en beeldvorming karakteriseer dan ook uit wans uit die werk van Johann de Lange: vanaf die flaminke van die openingsgedig met sy knap oorskakeling van ding na beeld tot by die jongeling se bemoeidheid met die dood, wat uit heelparty gedigte spreek; nie altyd die bestes nie, hoewel ’n voortreflike vers soos 'Aardlief' daarby hoort. (...)

"Die patroon van teenstellinge (ook teenstellinge tussen noemer en benoemde, woord en ding) wat in hoë mate hierdie verse bepaal, lei soms tot werklik vernuftige verdigtinge, soos in 'Verlies is skoner':

Verlies is altyd skoner as besit:
eie tande beter as kunsgebit;
ek byt vas ter wille van jou:
ek wil jou net so graag behou:

"Die jukstaposisie 'verlies' met die 'eie', deureenspel van hê en nie hê nie, van ek en jy, uiteindelik ook van woord en stilte (want die gedig eindig net so, met ’n dubbelpunt, teen die oewer van die swye), openbaar opnuut ’n digter wat sy dig ken. (...)

"De Lange se vermoë en gebreke blyk goed uit die verskil tussen 'Leipoldt 1' en 'Leipoldt 2': die eerste ’n geskakeerde spel van nuanses, van verskillende blikke op Leipoldt wat in sy uitgedeeldheid aan andere 'die bitter sap van eensaamheid' behou', die tweede nogal ’n moeisaam-Freudiaanse gebéúr met woorde.

"’n Kenmerkende aspek van die bundel se werskaf met teenstellinge, met die ek gestel teenoor geliefde, lewe, ruimte of dood, is die bemoeienis met aftakeling en tot niet gaan: ook hier, egter, slaag dit soms ('Futuris'), soms nie ('Sloping').

"Kortom: ’n bundel met vele gebreke, maar ook met ’n klompie uitstekende bevestiginge van talent; veral ’n vermoë om spits en suinig met woorde om te gaan. Ietwat te vroeg gedebuteer? Kan wees. Maar in party van die akwarelle is die dors tog oortuigend verduursaam."

Sy tweede bundel, Waterwoestyn, se titel is net so ongewoon, en soos die titel aandui, wys dit na uiterstes soos om alleen te wees tussen baie mense en tekorte te ervaar, al is daar oorvloed. Johann is lief om waterbeelde in sy verse te gebruik.

Volgens TT Cloete (Volksblad, 1 September 1984) is Waterwoestyn ’n matige vooruitgang op sy debuut, maar dui dit tog dat hy ’n digter van verskeidenheid is.

"’n Kenmerk van die bundel is die oortuigend voltooiende slotsom waartoe so baie gedigte kom. Byvoorbeeld die ballade-agtige 'Gesprek'. Absurd is dit in die pragtige 'Aktrise', met sy eweneens vinnige verloop. Met ’n stuwende verloop is ook 'Landskap', wat van die vloeibare na die strakke beweeg. (...)

"Party gedigte rym, en dan bewys De Lange dat die rymgebruik nie alleen ’n klankwaarde het nie, maar veral ook ’n semantiese, soos in 'Vrou' met sy veelvoud van assosiasies deur die rym. Die meeste gedigte is egter rymloos, maar dikwels nietemin met ’n herhalingspatroon of -patrone wat in funksie met die rym ooreenstem, byvoorbeeld 'Snoer', met sy veelvoud van 'kleur'-woorde en sy variante wat aan rymgebruik verwant is.

"Sommige gedigte is nog kragloos en staan in skerp kontras tot dié wat ’n sterk verloop en kragtige slot het. Veral teen die slot is daar heelwat flouer verse, maar oor die algemeen is dit ’n goeie tweede bundel van ’n jong digter wat gesteld is op versorgde poësie. Daar is genoeg mooi gedigte in Waterwoestyn."

In 1987 skryf hy ’n gedig "Skerpskutter" en stuur dit in vir die wedstryd Anastasia del Pino Memorial, wat vanaf die Karibiese Eilande georganiseer is, en hy is een van elf wenners van die Pankrátor Poeta Germán Pardo Garío-prys. Sy gedig is in ’n internasionale bundel opgeneem. Hy ontvang ook ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker, getiteld Verdrinkte hande.

Oor Snel grys fantoom wat in 1986 verskyn het, skryf Joan Hambidge in Die Burger van 10 Desember 1986 dat dit ’n indrukwekkende en kragtige bundel is wat Johann as toonaangewende digter van die jare tagtig vestig. "Terwyl daar nog iets eteries, en selfs ‘esteties’, aanwesig is in sy eerste twee bundels, is hierdie ’n driftige bundel. Die digter het as ’t ware nou sy ‘eie stem’ gevind en die menslike paradokse (lewe/dood) word met dieselfde kompromislose aggressie ontgin as by Sylvia Plath."

JC Kannemeyer (Die Burger, 2 Augustus 1990) laat hom as volg uit oor Wordende naak (1990): "Alhoewel ’n mens voel dat De Lange nie altyd daarin geslaag het om alle literêre verwysings in Wordende naak sinvol in sy eie verse te benut nie en ’n kragtiger stem dikwels sy eie woord verdof, toon die bundel in sy geheel met die sterk vormgewing en beeldende vermoë ’n vooruitgang op Snel grys fantoom. Die eksplisiete beelding van sy eerste bundel en die estetisering wat Waterwoestyn en sy digterskap as sodanig bedreig het, is hier heeltemal afwesig."

TT Cloete (Beeld, 6 Augustus 1990) beskou Wordende naak as Johann se beste bundel tot op daardie stadium. Die bundel verteenwoordig ’n beduidende vooruitgang in sy werk en is ’n groot bydrae tot die Afrikaanse digkuns: "Dit is in een enkele sin ’n bundel van goedversorgde, delikate, diepsinnige en uiters mooi verse. Slegs enkele korter gedigte weeg nie op teen die meerderheid nie, maar die uitstekende bundel kan hulle verdra."

Na die ontvangs van die Rapport-prys in 1990 vertel Johann aan Hans Pienaar in Rapport van 5 Mei 1991 dat hy verras was om die prys te kry: "Dit is vir my baie bemoedigend dat ’n establishment-koerant ’n digter soos [ek] bekroon. My digkuns dra wel die uniform van konvensie, omdat dit konvensionele poësie met streng ryme en ritmes naboots, maar dis tog in ’n mate subversief."

Nagsweet (1991) was voor publikasie al in omstredenheid gehul. Die titel is twee maal verander voordat daar op Nagsweet besluit is. Tafelberg Uitgewers het die bundel afgekeur nadat dit reeds vir publikasie aanvaar is, vanweë die Walter Battiss-waterverfskildery op die omslag wat ’n taamlik realistiese afbeelding van ’n penis toon.

Johan vertel dat hy besluit het om die waterverf van Battiss as omslag te gebruik. "Dit bestaan uit twee panele wat elk die naakte onderlyf van ’n man uitbeeld – toevallig albei gekleurd. Ek het uit elkeen van die panele ’n man gekies vir die voor- en agterblad. Ek kan nie sien dat ’n kunswerk van Battiss, ongeag die erotiese inhoud daarvan, enigsins aanstootlik of obseen kan wees nie" (Beeld, 7 Desember 1990). Johann was bereid om twee alternatiewe omslae voor te lê, maar Tafelberg het die voorstelle verwerp en daarop aangedring dat die boek gewoon ’n tipografiese omslag kry. Hy het toe besluit om sy bundel elders te laat uitgee en Taurus het dit in 1991 gepubliseer.

"In vergelyking met Wordende naak, sy bundel wat in 1990 verskyn het, word Johann de Lange se Nagsweet haas uitsluitlik aan die homo-erotiese en die homoseksuele ervaring gewy," het JC Kannemeyer in Die Burger (25 Junie 1991) geskryf. "Dit handel, volgens die drie motto's uit Whitman, Lorca en Ginsberg in die begin, oor die liefde wat op die bladsye van die boek neerslag vind, ’n diaboliese liggaamlike wellustigheid waarop die bundeltitel veral slaan, en ’n oorgawe aan die naakte liggaam in sy seksualiteit.

Kannemeyer het verder geskryf dat ons basies hier, "ten spyte van die 'gewaagde' tematiek, te make het met ’n oppervlakkige indrukspoësie, ’n literêre voyeurisme wat ’n uiterlike skittering vertoon, maar nie ’n verborge geheim bevat nie en dikwels ook as gevolg van ’n verwarring in die beeldspraak die leser onbevredig laat. Voorbeeld hiervan is 'Aars poetica' waarin De Lange Opperman se bekende 'Digter' en ’n vers uit Kuns-mis as basis gebruik. Wat egter na ’n ketting verwante skeepsbeelde lyk, word deur die botsing tussen 'opgetel', 'geswolle poort' en 'skuit' ’n voorstelling wat nie klop nie, terwyl die 'steil mas/van bloed' weer ’n geval is waar die beelding op sigself ontoereikend is en die digter dit van buite met die 'vleeslike' laag moet laai. Waar die beelding meer bevredig, is die gedigte oortuigender, soos in die strak, gelaaide taal van 'Preie'. In sy geheel verteenwoordig Nagsweet egter ’n insinking in De Lange se digterskap." 

In Beeld (10 Oktober 1991) skryf Joan Hambidge vir haar is Nagsweet dié erotiese deurbraak in Afrikaans omdat geen straight, let alone gay digter wéér ’n erotiese vers sal kan skrywe sonder om by dié bliksemverslag verby te kom nie.

"Taurus moet geloof word vir sy manmoedigheid. Dis ’n wonderbaarlike teks wat die leser nie koud sal laat nie, vandaar die titel Nagsweet, meen ek.

"Want die Nagsweet in hierdie bundel handel nie net oor die adrenalien wat die spreker in sy cruising kry nie; dit betrek ook die dood (veral in die lieflike eerste afdeling met sy beheptheid van die eindes van rolprentsterre én kultusfigure. Veral 'Calvin Klein', p 20, verdien uitsondering).

"Die Nagsweet van die bundel het veelal te make met die seksuele – en meer spesifiek die homo-erotiese – wat by De Lange ’n obsessionele verkenning van die teks-as-liggaam word. Die gedig word ’n fallus/liggaam wat aan die leser aangebied word – hierom sal/gaan dit skok of walg of aantrek.

"Ek ken geen teks in Afrikaans wat die kontrak tussen teks en leser só verseksualiseer nie. Roland Barthes se The pleasure of the text word hier tot sy uiterste gevoer.

"Hierdie gedig is nie geïnteresseer in die gaping tussen die liggaam én kledingstuk nie. Nee. Dit word eerder ’n volledige ontkleedans wat oortuig juis omdat De Lange so vaardig dig. (...)

"Psigoanalities gelees is hierdie bundel een wat sy leser dwing om af te daal in die Hades van die eie onbewuste ten einde meer te wete te kom oor die eindes óf verloop van jou eie vleesgedig. Dood en erotiek word dus nie om dowe neute só saamgedig nie ('Kroeg', p 86).

"In Nagsweet word die patriargale taboe dat mans mekaar nie mag liefhê oortree en die konvensie binne die Afrikaanse poësie dat die liefdesgedig fraai en soet moet wees. (...)

"Dit is ’n bundel wat kwansuis weens die gewaagde Battiss-omslae nie die paal (alle puns intended) kon haal nie. Maar agter die gedurfdheid, die openlike vulgariteit en selfs liederlikheid vir die swakkes van hart, lê ’n stuk weerloosheid. Om nie eens te praat van poëtiese vaardigheid nie. Soos in 'Calvin Klein' (p 20).

"Hierdie gedig is manjifiek, veral omdat die digter in dié bundel begin wegdig van sy vroeëre amper té romantiese aanslag."

Vleiswond word in 1993 by Human & Rousseau uitgegee en in Beeld van 1 November 1993 skryf AP Grové oor Vleiswond (1993): "Daar is gedigte in hierdie bundel wat beeldend nie oortuig nie, ander wat kru momente bevat, maar daar is ook genoeg mooi gedigte in die bundel, genoeg talent aanwesig om die digterskap te bevestig wat ons uit die vorige werk van De Lange leer ken het."

Met die publikasie van Wat sag is vergaan in 1995 kan ’n mens, met die kennis van die hede, dit die einde van Johann de Lange se eerste tydperk as digter noem. Sy volgende bundel, Die algebra van nood, verskyn eers in 2009.

Oor Wat sag is vergaan was AP Grové in Beeld van 18 Desember 1995 die volgende mening aangedaan: "Hoewel dit nêrens in die bundel aangedui word nie, is die figuur wat as bandversiering dien, ’n fotografiese weergawe van die beroemde slapende Barberini faun waarvan die oorspronklike beeld vandag op ’n prominente plek in München se Gliptoteek te sien is.

"Met hierdie figuur het Nic de Jager, wat verantwoordelik was vir die bandontwerp, in elk geval ’n goeie keuse gedoen: enersyds vestig dit die aandag op die kuns en sy inspirasiemoontlikhede, terwyl die beeld andersyds met sy brutale liggaamlikheid ’n uitdagende seksualiteit suggereer – motiewe wat sterk in die bundel figureer.

"In die eerste twee afdelings kry ons veral natuurgedigte waarin die kuns en die verwysing na bepaalde kunsprodukte ’n belangrike rol speel. Verskeie gedigte speel dan ook terug op die een of ander belangrike werk uit die wêreld van die kunste.

"In die volgende twee afdelings kom die erotiek, meer bepaald die homo-erotiek, aan die bod, terwyl die slotafdeling onder die titel 'Panasee'  vyf portrette na vore bring, portrette van bekende figure wat tot die dood toe die ideaal najaag van die een en enigste wondermiddel wat veronderstel is om geluk te bring en die lewe draaglik te maak. Elke afdeling lewer naas mindere werk ook sy kwota goeie gedigte."

Grové het sy resensie afgesluit: "Kyk ons terug op die geheel, sou ek sê dat die waarde van die bundel eerder in die 'kunsgedigte' en die deernisvolle portrette as in die erotiese gedigte geleë is; eerder in die objektiewe, besinnende gedigte as in die werk van ’n meer subjektiewe en/of belydende aard."

Wat vir Tim Huisamen nuut is in hierdie sewende bundel, Wat sag is vergaan, is die manier waarop hy sy verblyf in die Kaap met hierdie bundel verwoord." Andersins getuig die bundel weer eens van sy barokke vernuf as digter. Barok in die sin van sy taalvermoë, veral om woordbetekenisse te ontgin en daardeur vindingryke beeldnetwerke tot stand te bring. Barok in die bewuswording van alle vlees is gras, en daarteenoor die aangryp van die sinlike genot in ’n carpe diem-houding. Barok in die deurlopende intertekstualiteit en kunssinnigheid. Maar ook barok in die sin van ’n ongelyke pêrel in ’n soms pralerige retorika."

Huisamen sluit sy resensie af: "Johann de Lange bevestig met Wat sag is vergaan sy statuur in die Afrikaanse letterkunde. Met sy taal- en intellektuele vermoëns verwoord hy treffend die menslike kondisie in die algemeen en die gay mens, as voorbeeld daarvan, in die besonder."

De Lange put sy inspirasie nie uit boeke nie, maar uit musiek: "Musiek was nog altyd nader aan die polsslag van ’n beskawing en uiteraard eerste om die tekens en simbole van daardie beskawing te absorbeer en weer te gee." Die digters wat hom in sy vroeë jare die meeste beïnvloed het, was Sylvia Plath, Ingrid Jonker, Arthur Rimbaud, Dylan Thomas en die sanger-digter Leonard Cohen. Hy sê dat hy feitlik alles lees wat voorkom. "Ek is verslaaf aan rillers, speurverhale en ‘legal thrillers’."

In ’n onderhoud met Hennie Aucamp op LitNet vertel Johann dat hy betreklik laat in sy lewe begin het om die kortverhaal in alle erns te beoefen. "Dit was altyd die poësie wat ’n sentrale plek in my lewe ingeneem het. Ek herinner my egter dat ek op skool al prosa geskryf het, onder aanmoediging van my onderwysers. [...] Die boek wat my op hoërskool prosa wou laat skryf, was Die eerste lewe van Colet. Ek dink ek kon my seksuele verwardheid en frustrasie herken in die karakter van Colet. Ek het terstond ook ’n ‘psigologiese’ novelle geskryf, gelaai met simboliek en seksuele neurose, met ’n goeie klap weg van Die son struikel. As ek vandag na die manuskrip kyk, hervind ek weer daardie kind. Daarom kon ek dit nog nooit weggee nie. Wat ek wil sê, is dit: ek het dikwels my neuroses in prosa laat uitspeel, maar nooit in die poësie nie. Dit was vir my ’n verhewe medium."

Hy vertel verder hoe hy, toe hy prosa begin skryf het, weer moes leer loop. Hy het prosahandleidings bestudeer, want hy het oorweldig gevoel deur die oormaat van woorde en die blote logistiek wat prosa vereis. "Ek dink my sin vir vorm en vir die gewig van die enkele woord wat ek van die poësie het, het wel gehelp dat ek die kortverhaal vinniger onder die knie kry. Maar ek moes steeds van voor begin."

As ’n soort van "voorwoord" tot sy resensie van Johann se eerste kortverhaalbundel, Vreemder as fiksie (1996), het Phil du Plessis geskryf: "Agterop die omslag bring De Lange die kwessie van skryf en lieg te berde, in die konteks van hierdie boek, waar konvensionele moraliteit, soos by Nietzsche, nie betrek word nie. Hierdie waardesisteem kan De Lange nie universaliseer nie.

"Epimenides, die Kretenser, het gesê alle Kretensers lieg. In die post-strukturalistiese po-mo konteks van hierdie boek impliseer De Lange dat elke skrywer ’n leuenaar vir eie gewin is, en dat of hy werklik lieg of nie, van geen morele belang is nie. Almal is egter nie Kretensers nie, en talle weet presiese waar De Lange die waarheid praat, veral die geskryfdes van sy tekste.

"Die polemiese respons op hierdie boek sou Nietzsche in sy pap laat stik. Die morele respons van ’n vermeende christelike kuddedier (Ia van Zyl in Die Burger) is beantwoord deur nog kuddediere wat van po-mo en die vrye teks (is so iets menslik moontlik?) ’n evangelie maak (Joan Hambidge en volgelinge).

"Wat my as lesende betref, was die lees van Vreemder as fiksie harde werk. Ek het van vroeg in my lewe oorweldigend dekadente tekste deurgeworstel vir die boek se intrinsieke waarde (die markies de Sade se Een honderd en twintig dae van Sodom of William Burroughs se The naked lunch). Later kon ek Casper Schmidt se laaste verse, selfs Koos Prinsloo lees, vir die uitbreiding van kennis en begrip van die mens en sy gemoed. Die voordeel was dat elkeen op die rand van die kultuur, as nihilistiese Übermensch, op sy eie gestaan her, tot werklik avant-gardistiese gewin van kultuur in die breedste sin.

"Ek kan nie sê of Johann de Lange sy boek geskryf het uit ressentiment in Nietzsche se sin van die woord nie. Daar is egter ’n geurtjie van die succes de scandale van ’n (vir die skrywer) sinlik genotlike (te verskoon), maar vir die leser ’n esteties nuttelose rit (nie te verskoon nie) op Koos Prinsloo se po-mo kadawer."

Phil du Plessis het in sy bespreking van die boek nie baie vleiende kommentaar gehad nie. Hy het onder andere geskryf: "Die skryfstyl is post-modernisties (po-mo). Po-mo is egter geen ware bredie nie, waar geure en smake kan ontwikkel en saamsmelt: die helfte sou mens graag van jou bord af wou krap, maar dis geen bord kos nie – jy moet eenvoudig lees tot die teks klaar is."

Die eerste afdeling bou voort op Koos Prinsloo se werk en hier vind Du Plessis die onderskeid tussen De Lange en Prinsloo se prosa moeilik naspeurbaar. Afdeling twee is vir Du Plessis "meedoënloos sadisties, elke teks oor ’n seksmaat, weer ’n kil po-mo konterfeitsel, soos De Lange sy tekste noem".

Oor die derde en vierde afdelings het Du Plessis hom as volg uitgelaat: "Moffiegeskinder, met kwaadwillige plesier aan die verraad van vriende, is weer die hoofkenmerk van die verhale in die derde afdeling, waar die tekste tog die minimale gewin van ’n tikkie swart humor het. Ten einde laaste, alleen in die vierde afdeling, vind die leser ’n konterfeitsel, 'Afskeid van my ouers', waar ’n eerlike 'ek' darem in ’n voetnoot verskyn en die teks roerend persoonlik voordoen."

Johann se tweede kortverhaalbundel, Tweede natuur, is by Homeros uitgegee, ’n afdeling van Tafelberg Uitgewers vir Afrikaanse gay boeke.

Marius Crous skryf in Die Burger van 13 Desember 2000 dat Tweede natuur geskryf is vir die "ideale leser, naamlik ’n gay man wat dit met een hand sal lees of wat die kodes in die teks sal kan vertolk. Wat die nie-ideale leser of straight leser betref, vir hom/haar sal dit ’n voyeuristiese blik bied op die gay dwelmkultuur in  veral Kaapstad.

"Dit is ’n teks wat interessante vrae stel oor die liggaam-as-teks, hoe die liggaam deel word van ’n sisteem wat ingestel is op die verheerliking van ekstase. Dit analiseer ook ons huidige bestel: hoe seks, dwelms en rave-musiek ’n ontvlugting uit die werklikheid bied. Dit word ’n teks wat fokus op hedonisme en die hedonistiese najaag van plesier; ’n teks wat ’n ander sy van ons bevryde samelewing weergee."     

In sy vrye tyd vertaal Johann gedigte van onder meer Wilma Stockenström, Sheila Cussons, Antjie Krog, Lucas Malan en Ernst van Heerden. Van sy vertalings is in plaaslike en oorsese publikasies opgeneem. In 1988 ontvang hy eervolle vermelding vir sy vertalings van Stockenström se gedigte in ’n kompetisie wat deur die English Academy of South Africa uitgeskryf is. In 2007 publiseer Human & Rousseau The wisdom of water, ’n vertaling van Stockenström se gedigte deur Johann, en skryf Tim Huisamen in die voorwoord: "Johann de Lange is an excellent poet; here he reveals himself as an excellent translator, especially if the intrinsic complexity of the poetry is taken into account. His translations are not only very accurate, but keep what is most difficult to capture – a sense of the poetic in tone, in rhythm."

Maar Johan sien homself nie as ’n vertaler nie – dit is slegs vingeroefeninge in die tye wanneer hy nie self skryf nie. "Ek is ’n liefhebber van vertaling. ’n Lekkerbek-vertaler wat net my persoonlike gunsteling-digters se werk vertaal – dit sluit in Sheila Cussons, NP Van Wyk Louw en die Britse digter Philip Larkin. Daar is iets magies aan die transformasieproses van vertaling" (Die Burger, 24 Julie 2007).

Hy sê in Die Burger van 24 Julie 2007 dat hy die vertaling van gedigte gelykstel aan die werk van ‘n kunstenaar wat die meesters se werk kopieer. "André Brink het jare gelede gesê as ’n mens van ’n gedig hou, moet jy probeer vasstel waarom jy daarvan hou en hoe die digter dit geskep het. In die vertaalproses haal ek die gedig uitmekaar. Dié proses help my om dit beter te verstaan."

Hy vertel aan Joan Hambidge in Insig van September 1990 dat dit ’n mite is dat skryf, en meer spesifiek die digproses, ’n mens gelukkig maak. Hy glo dat dit eerder ’n mens se lewe kompliseer. "Vir eers omdat die digter gekonfronteer word met onverwerkte konflikte en tweedens omdat mense aangetrokke raak tot die digter-persona – net om uit te vind dat die digter nie die mens is wat die leser hom voorgestel het nie."

Johann erken teenoor Hennie Aucamp dat die genre wat hy graag sou wou probeer, die drama is. "Die paar kere wat ek rakelings daarmee te doen gehad het, was baie stimulerend. Dit is in ’n sin die antitese van gedigte skryf. Die drama is nie privaat nie, hy betrek ’n gehoor op ’n meer direkte wyse as die poësie. [...] Wat my tot dusver daarvan weerhou het, is die feit dat ’n mens nie die drama ‘on the side’ kan doen as jy ’n sukses daarvan wil maak nie; dit moet jou primêre medium wees. En ek is nie bereid om van die poësie afstand te doen nie."

Johann vertel dat as hy oor iets wil skryf, hy hom gewoonlik daarin onderdompel en dan tot die uiterste gaan. "Byvoorbeeld in die tyd van Nagsweet het ek kompulsief ge-cruise­ – dag en nag, naweke, in die etensuur – net konstant ge-cruise. En toe die boek uitgekom het, het ek belangstelling daarin verloor. Toe’t ek ’n ander kompulsie gesoek. En ek het toe ingeval by die rave-kultuur so in 1998 se kant rond. En toe het ek begin om die hele alfabet (dwelms) te doen, want ek het eintlik, ek was aangedraai, nuuskierig, veral met psigedeliese goed, ek dink ’n mens kan geweldig baie léér as jy nie net hedonisties ingestel is nie. Toe het ek my daarin onderdompel, en Tweede natuur het daaruit gekom.

"Ek wou vreeslik graag ’n digbundel maak, maar ek kon nie ’n vorm kry om daaroor te skryf in gedigte nie; dit wou net nie wérk nie. Maar dit is seker nou vyf jaar wat ek nie meer indulge nie. Miskien is dit ook waarom ek gevoel het ek is nou klaar, want ek het nie meer ’n kompulsie wat my aandryf nie." (Die Burger, 27 Februarie 2009)

’n Nuwe bundel poësie, Die algebra van nood, verskyn in Februarie 2009, en daarmee verbreek De Lange ’n digterlike stilte van dertien jaar. Oor die lang stilswye sê hy (Die Burger, 27 Februarie 2009): "Ek het nooit ophou skryf nie, ek het net belangstelling verloor in publiseer. Dit klink vreemd, maar hoe langer jy uitgestel het, hoe moeiliker het dit geword om te begin dink aan sit en ’n boek bymekaarbring. Toe het ek vir Human & Rousseau gevra of hulle belang sou stel om ’n keuse uit my bestaande bundels uit te gee. Want ek het basies gevoel – wérklik gevoel – dis klaar, ek is uitgeskryf. En toe het hulle gesê hulle sal ’n keuse uitgee, maar dan wil hulle twintig nuwe gedigte hê – net om die bundel darem interessant te maak vir kopers."

Johann het ’n "k-khuis" vol gedigte op sy rekenaar gehad en het van hulle aan Henning Snyman gestuur sodat hy Johann kon help om twintig uit te kies. Snyman se bevinding was egter dat daar genoeg is vir ’n hele bundel. "Ek het werklik nie gedink daar is nog ’n bundel in [nie] ... jy bereik ’n punt waar jy voel jy het eintlik alles gesê wat jy wou sê."

Die omslag van Die algebra van nood is deur Christiaan Diedericks ontwerp. Daarop is ’n ets van Johann wat sy kop in sy sterk hande vashou. "Diedericks het vir my ’n ets gemaak van ’n foto af. Ek het die etsplaat gesien. Dit moes úre en dáé gevat het. Dis van ’n foto wat ek sommer self met my Mac geneem het met daai ingeboude kameralensie. Ek het baie keer net as ek so sit en bored is, sit en foto’tjies neem. Van my, of van my en die kat.

"Die titel kom van William Burroughs se The algebra of need wat gaan oor die verhouding tussen die junkie en die dealer en daai soort van ’n wiskunde van nood: Beyond a certain frequency need knows absolutely no limit or control," vertel Johann (Die Burger, 27 Februarie 2009). "En daarom het ek die spuitnaald ingewerk. Om net daai suggestie van need te ondervang, en natuurlik die hele kode van dwelmgebruik, waaroor daar ’n afdeling (‘Bedrieglike paradyse’) is. Hopelik is daar in hierdie foto iets van die aftakeling van die jare. Miskien." Hy voel dat poësielesers ’n tough breed is en dat hulle nie deur die omslag afgeskrik sal word nie. "Ek sien dit nie as donker nie, ek sien dit meer as introspeksie."

Ampie Coetzee meen in Die Burger van 20 April 2009 dat Die algebra van nood nie veel noemenswaardige gedigte bevat nie en dat hoewel daar metafore is wat slaag en intuïtief beelde skep, daar ook beelde is wat te uitgedink is, "eerder kognitief as intuïtief".

Marthinus Beukes (Beeld, 8 Mei 2009) skryf dat die digter die leser lei om die menslike toestand van pyn, verlies en nood te lees teen ’n estetiese geheel van die agt bundelafdelings. "In Die algebra van nood wil De Lange byna die gebrokenheid wat veroorsaak is deur pyn, herkonstrueer of herstel in ’n berekende en deurgekomponeerde bundel: ’n eienskap kenmerkend van hierdie bekroonde digter. [...] Met Die algebra van nood bevestig De Lange sy belangrike stem in die Afrikaanse poësie. Nie alleen is sy homo-erotiese verse ’n blywende bydrae tot queerverse nie, maar getuig sy fyn gestruktureerde gedigte en vormtug van ’n invloedryke stem in Afrikaans. Hy demonstreer dat sy digkuns ’n jukstaposisie van aarselende soeke en sekere vind is van die nuanses van bestaan. Die ritme van sy verse pols verder as die noodvrees van verlies en die dood se spore."

Zandra Bezuidenhout (Rapport, 30 Junie 2009) meen dat Johann se trefseker aanwending van woord- en reëlbreuke sorg vir ’n elegante, ritmiese versbeweging en ’n verklanking van die spreker se gedagtegang. "In die geheel bied die onvoorspelbaarheid van die versbou, die inhoude wat wissel van minder tot meer eksplisiet en die rem wat op die emosie geplaas word, voldoende poëtiese pitkos. Die bundel se groter subtiliteit sal in die smaak val van lesers wat die vleesdis voorheen onverteerbaar gevind het."

Vir Bernard Odendaal (op Versindaba) het Johann met Die algebra van nood indrukwekkend op sy vorige werk voortgebou.

Johann het, soos vroeër genoem, self gemeen dat hy uitgeskryf is en dat die hoop gedigte in sy spreekwoordelike laai almal duds was. Hy het hulle beskou as "floue skadu’s" van wat hy wóú sê. Maar tog het hy gereeld na hulle teruggegaan om "met ’n stok te por aan die karkas om te kyk of daar nie tóg lewe in is nie". En het hy ook telkens ietsie verander, partykeer heelwat, soms net ’n leesteken.

Toe Henning Snyman die gedigte deurgaan en sê dat daar tog ’n bundel in is, en daarby ’n góéie bundel, "[t]oe moes ek die engel uit die klip verlos, wat geen ligte taak was nie, maar dit was heerlik om weer geïnspireerd te werk. Intense werk het gevolg," vertel Johann.

Ten spyte van enkele negatiewe resensies het Die algebra van nood uiteindelik tot sy reg gekom op ’n manier wat Johann nie in sy wildste fantasieë sou kon voorsien het nie. "Ek dink trouens heelwat mense ly nóú (2012) nog aan skok dat ek die Hertzog-prys vir die bundel gekry het, een van hulle is ek. Benewens steun van Henning en Joan Hambidge was dit André Brink se reaksie op die bladproewe wat ek vir hom gestuur het in ’n e-pos wat my laat glo het ek is wél op die regte spoor. Dié bekroning is die eerste keer sedert 1937 met ID du Plessis se bekroning vir Vreemde liefde dat die Hertzog-prys aan ’n gay digter/bundel toegeken word. Ek neem die prys eweneens in ontvangs namens die generasie van Tagtig wat, met die uitsondering van Etienne van Heerden, tot dusver grootliks verwaarloos en oor die hoof gesien is." (http://johanndelange.blogspot.com/2011/03/die-hertzogprys-vir-poesie-2011.html)

André Brink het in die e-pos geskryf: "Nie ’n ‘bespreking’ nie. Net ’n dankiesê. Vir wat, dink ek al meer, waarskynlik die beste is wat jy nog geskryf het. Jisses, dis mooi! Die soek na heiligheid en skoon-heid, die visenteer van skaduwees, die verkenningstogte deur die dood, die altyd bewus bly van verganklikheid, die deernis met menswees, die in-dig na die pit toe – tot in die kleinste verse, soos die groot ‘Rembrandt’, die odes en palinodes, die her-dink en óór-dink en deur-dink van vroeër digters ... Dit alles is ’n fees van herkenning, en tegelyk van nuwe kennismaking. (...)

"Nie vir ’n oomblik hoef jy bekommerd te wees oor trefsekerheid nie. Dis ’n glansende bundel dié. En daarom, regtig, net DANKIE. (My enigste werklike jammerte is dat ek dit nie vroeër kon gesien het om in te sluit in die nuwe Verseboek wat nou by die drukker is nie. Maar uiteindelik maak dit seker nie saak nie: hy kan rustig en gloeiend wag op die volgende.)

"Daarom hoop ek dat jy sal vergewe dat dit nie ’n deurdagte besinning is dié soos wat jy ongetwyfeld verdien nie. Maar die dankie kom uit die hart uit. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou nie."

Na Die algebra van nood word Judasoog: ’n keur uit die gedigte van Johann de Lange deur Johann self saamgestel. Naas gedigte uit sy agt digbundels sedert sy debuut met Akwarelle van die dors in 1982 is daar ook n tiental nuwe verse aan die einde.

Marius Crous (Rapport, 16 Augustus 2010) skryf: "Die titel van die versameling kom ter sprake in die kort gedig 'Loergat' (65) wanneer na die loergat tussen twee toilette verwys word as ’n judasoog, maar dit roep ook onmiddellik die assosiasie op met Breyten Breytenbach se bundel Judas Eye (1988). Dit is ’n tegniek wat grotendeels by De Lange voorkom wanneer hy die titel vanuit Engels oorsit in Afrikaans en dus binne die nuwe literêre konteks met ander betekenisse laai.

"Daar is ook in Johann se gedigte ’n deurlopende gesprekvoering met ander digters en kunstenaars. Die deurlopendste gesprek is beslis met digtersfigure soos Sheila Cussons, Van Wyk Louw en Joan Hambidge, wat op haar beurt weer terugskryf na die De Lange-teks en so ’n broer-suster-relasie (in Bloom se terminologie) aktiveer," skryf Crous.

Crous meen dat Johann bekend is as die openhartigste digter in Afrikaans wanneer dit kom by die skryf van verse oor gay-seksualiteit. "By hom is daar nie ’n versluiering van die fallus nie. Daar bestaan egter nie eenstemmigheid oor hierdie aspek van sy poësie nie en sommige kritici maak dit af as gay-kitsch. Daar moet egter toegegee word dat

De Lange oor die vermoë beskik om, naas hierdie oopgevlekte realisme, vorendag te kan kom met van die roerendste en mooiste natuurmetaforiek in Afrikaans. Vormvas en bedrewe is die beoefening van die poësie by hom."

Crous sluit sy bespreking af: "Die slotgedig is ‘Aandlied’, waarin die digter sy eie sterflikheid besing en in ’n memento mori besin oor sy dood. Laasgenoemde is myns insiens een van die sterkste temas in De Lange se werk; naamlik die besing van die aftakeling van die menslike liggaam in kontras met die volmaakte liggame van die jong seksgodjies in die klubs en op die internet.

"Ek is Human & Rousseau ewig dankbaar vir hierdie versamelde gedigte, want nou is van die klassieke De Lange-verse weer beskikbaar en ’n mens kan sy oeuvre met studente bespreek."

Joan Hambidge (Volksblad, 27 Julie 2010) tipeer Johann de Lange se ryk-geskakeerde digkuns as "akwarelle van die dors. Dit is ’n digkuns van paradoks, van onvervulling, en juis hierom is daar ’n intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval. ’n Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ’n herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en NP Van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik) as gay-digter getipeer. Hy het van die sterkste verse oor die tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ’n Januskant. Hy is sowel cruiser en gay-digter as besinger van die skoonheid. (...)

"Henning Snyman skryf op die agterblad tereg: ‘Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn.’ Dit is ’n raak opsomming van die besondere beeldvermoë.

"Wat hierdie bundel vir die waarderende leser uiters waardevol maak, is die hand vol nuwe verse wat ook by die keur ingesluit is. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ’n versweë antwoord aan ’n ander digter) en ’n lieflike vers oor Marilyn Monroe. Daar is ’n vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos Google, SMS, Twitter, blog, en so meer, om te probeer bepaal hoe die moderne mediabehepte mens op die fenomeen Jesus Christus sou reageer. 

"Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die ‘naakte algebra’ van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) en so meer."

Vir Hambidge is Johann ’n "begenadigde vertaler en ’n besónderse kortverhaalskrywer, maar dit is in sy digkuns waar die leser onder die indruk van ’n suiwerheid kom:

Die sagste wat ons het, die taal
bestaan solank ons asemhaal. ("Taal", bl 123)

Snyman meen dat De Lange se oeuvre feitlik ’n register van emosies word, fel en diep. En dit is presies soos dit vir Hambidge ook is. 

Terwyl Johann aan verse gewerk het wat uiteindelik sy volgende bundel, Vaarwel, my effens bevlekte held, sou word, het hy besluit om kwatryne te skryf, nie vir publikasie nie, maar "net om weer in shape te kom, te leer bondig dink en formuleer". Uiteindelik was daar oor ’n honderd. Hy besluit om die bestes uit te soek en aan Protea Boekhuis te stuur, want Human & Rousseau het toe reeds Vaarwel geskeduleer gehad vir Februarie 2012 en het gevoel dat nog ’n bundel in 2011, ná Algebra in 2009 en Judasoog in 2010, sy mark sou ooreis. Dit is gepubliseer as Weerlig van die ongeloof en is (tot Johann se verbasing én dankbaarheid, want daar kan soveel slaggate in ’n bundel met net kwatryne wees) baie goed ontvang.

Vir Bibi Slippers (Beeld, 12 Desember 2011) is die kwatryne "vanweë hul lengte nooit intimiderend nie, maar tog verklap die bundel nie al sy geheime met die eerste lees nie. Mens kan terugkeer en weer wonder wat party van die gedigte werklik beteken, terwyl van die reëls jou bybly omdat hulle so presies beskryf en so raak tref. Hier en daar is effens te veel klank in die reëls gepak, maar dit vergeef ek De Lange maklik. Die beperking wat hy homself in hierdie bundel gewillig oplê, dryf hom tot kreatiewe uiterstes, wat my as leser opnuut verras en vermaak het."

Johann erken self teenoor Slippers (LitNet): "Kwatrynbundels – eintlik énige bundel waarin ál die gedigte dieselfde vorm het – kan maklik eentonig raak, en ek het daarvoor probeer opmaak deur ‘n groter verskeidenheid temas te dek, om die rymskemas af te wissel, en bietjie te speel met die vorm.  Nie al die gedigte is kwatryne in die streng sin van die woord nie. Baie is iets tussen ’n epigram, ’n epifanie, en ’n haikoe."

Slippers wou by Johann weet of die proses van kwatryne skryf anders was as by dié van sy vorige bundels, waarin hy verskeie ander vorme beoefen het: "Daar is geen verskil tussen die skryf van ’n kwatryn, ’n sonnet en ’n vrye vers nie. Elke vorm het ánder eise, ja, maar jy skryf nie vinniger of makliker aan die een as aan die ander nie. Soms is jy gelukkig en kom ’n gedig byna voltooid op jou af, maar dis só selde, dat mens nie jou loopbaan daarop kan bou nie. Die langste wat ek nog aan ’n gedig gewerk het, is nege jaar, en dit was ’n kwatryn! Baie frustrerend, maar die vreugde toe dit uiteindelik regkom, was eufories. Ek gooi baie gedigte in my laai (of in rekenaarterme gooi ek hulle in ’n legger) as hulle nie wil lóóp nie; ek glo nie daaraan om ’n vers te forseer nie. Maar ek probeer een keer ’n jaar na sulke gedigte terug te keer om te kyk of hulle al ontwikkel het. Soms kan ek net ’n woord verander, of ’n leesteken, maar dit pla nie. Sommige gedigte kom egter nooit reg nie, en ek het vrede daarmee. Die beste reëls uit sulke gefaalde verse word hersirkuleer in nuwe verse. Niks gaan verlore nie.

"Wat Weerlig van die ongeloof aanbetref, het ek baie van die kwatryne in finale vorm gedroom. Ek ervaar dikwels ‘lucid dreaming’, waartydens ek bewus word daarvan dat ek droom en dan werk ek so vinnig as wat ek kan aan die kwatryn voordat ek wakker word. Sodra ek wakker word, tik ek dit vinnig op my selfoon in en slaap verder. Ek het ook die titelkwatryn van die bundel só gedroom, en dit het my ’n hele tyd geneem om volledig te verstaan wat dit beteken. Drome is ’n belangrike deel van die skeppingsproses vir my. Dit gee toegang tot inhoude wat andersins ontoeganklik bly."

Die omslae van Johann se bundels is feitlik almal, van die vroegstes tot die heel nuutstes, besonders. Hy het met die uitsondering van sy debuutbundel, Akwarelle van die dors, en Judasoog, wat deel uitmaak van ’n reeks bundels deur Human & Rousseau wat almal dieselfde uitleg het, al sy boeke se omslae self gekies en in sommige gevalle met die kunstenaars saamgewerk wanneer iets spesiaal vir die boek gemaak is. Op die voorblad van Die algebra van nood is ’n ets deur Chris Diedericks en op Weerlig van die ongeloof se omslag ’n baie mooi skets van Judith Mason.

Hy verduidelik aan Biibi Slippers op LitNet: "Ek is gelukkig daarin en baie dankbaar dat my uitgewers my só ter wille is en my toelaat om betrokke te raak. Vir my begin ’n boek by die omslag – dit is waar jy die eerste kodes aan die leser deurgee. Die oog op Weerlig is belangrik omdat die visuele belangrik is by die kwatrynvorm – dit onderstreep die fokus, die konsentrasie op besonderhede en die verheldering, die insig wat volg.

"Ek is van laerskooljare af al gek oor Judith Mason se werk en ek sou iets van haar op élke boek van my kon sit. Sy is vir my een van die grootste kunstenaars wat ons land nog opgelewer het. Die omslagkunswerk van Weerlig van die ongeloof is in die besit van haar dogter, Petra, en ek sou wát wou gee om dit te kon besit. Haar potloodwerk het vir my plaaslik geen gelyke nie. Die boek as estetiese objek is iets wat ek by Hennie Aucamp aangeleer het. Sy boeke en sy smaak in kuns is altyd onberispelik."

In 2012 word Johann se derde bundel sedert Die algebra van nood in 2009 gepubliseer. Die titel is Vaarwel, my effens bevlekte held. Dit bevat 70 gedigte, onder andere sy vertaling van Auden se "The platonic blow". Die omslag is weer eens ’n kunswerk van Chris Diedericks en Johann self is baie gelukkig met die boek.

In Human & Rousseau se persvrystelling beskryf hulle die bundel as volg: "Die gedigte getuig van ’n gevoeligheid en ’n diepte soos nog nie vantevore by hierdie digter nie. Met sy fokus op die mens én die natuur, boei De Lange die leser opnuut in toeganklike verse wat wissel van die elegiese tot die sardoniese. Die erns van die menslike drama van leef en sterf word telkens verlig met heerlike humor. Maar alhoewel die ironie aan die een kant spreek van onthulling, spreek dit andersyds van deernis.

"Temas sluit in vryheid, afstand, skoonheid, dood, pyn, verlies, religie, seks. Van die erotiese gedigte spreek besonder sterk van die intensiteit van menslike verlange en eensaamheid. En oor alles heers die woord, delikaat en kragtig gehanteer."

Henning Snyman skryf in sy keurverslag: "Niks staan verskuil vir die woord nie, geen ruimte kan onverken bly as die woord heers nie. So is dit in hierdie bundel met sy kaleidoskoop van woorde. Met gedigte so fyn verwerk soos hierdie, is dit telkens of die papier ruimte skep vir die woord en skugter terugstaan, wit agtergrond vir die woord. Elke woord dra betekenis en elke woord be-teken. Die woorde is nie indringerig nie, ook nie vertonerig en verwaand nie, dit is egter ook nie beskeie nie, maar versigtig selfversekerd. (...)

"In De Lange se vroeëre werk was daar soms nog te veel selfbewustheid, maar hier is dit die digter wat vry is en wat in staat is om selfs die diepste betrokkenheid by ’n gedig aan te bied met die suiwerheid van die woord as die hoogste goed. (...) Juis hierdie aspek val so sterk op in hierdie bundel: vryheid en dus afstand. Ook die woord word hierdeur die kans gegee om homself te laat geld. Lewe, skoonheid, pyn, religie – alles kry ’n onderdak in hierdie verse. Nie in ’n gefragmenteerde sin nie, maar in ’n geheel wat getuig van kontras en eenheid, bowe-al van woord- en digterlike integriteit.

"Die natuurwaarneming in hierdie tekste is besonder fyn en noukeurig. Dit word verwerk binne die teks en die tematiek. Deur die afstand van die digter wat bevry word van ‘de gekrulde ik’ (Hugo Brems se uitdrukking), word die objek van buite soomloos verweef met die objek van binne. Op hierdie manier word ook die natuur draer van die menslike wêreld, en is dit openbarend vir die begrip van volle menswees.

"De Lange slaag in die kuns om die ontstellende so aan te bied dat dit deur die presisie van woordkeuse nog meer ontstellend word. Die banale word deur die woord ‘gereinig’, iets helaas waarvan ons jong digters nog geen begrip het nie.

"Die bundel bevat ’n hele aantal erotiese verse, maar nie oorheersend so nie. Die erotiese verse is deurgaans onder die mag van die integere woord en spreek dus verby die bloot erotiese konsepte waarbinne die gedig funksioneer. Van hierdie gedigte spreek besonder sterk oor die intensiteit van menslike verlange en eensaamheid. Hierdie verse staan geensins terug vir die res van die gedigte nie, en word trouens so geplaas in die bundeleenheid dat hulle in gesprek gaan met die ander tekste in dieselfde afdeling, en in die bundelgeheel.

"Die bundel getuig van ’n gevoeligheid en ’n diepte soos nog nie vantevore by hierdie digter nie. Die soort stillewe-gedigte en die feitlik miniatuuragtige verse is van die kragtigste omdat elke woord so veelseggend is. Vaarwel, my effens bevlekte held is ’n besondere bundel, meelewend én gedistansieerd, innig én kontrasterend, met humor én wrangheid, met beelding én ironie. En oor alles: die woord so delikaat en kragtig gehanteer dat dit feitlik spontaan oorneem by die digter. Ek meen dat Johann de Lange tans die beste digter in Afrikaans is."

Volgens Francois Smith, wat ook ’n keurder van Vaarwel, my effens bevlekte held was, dra die bundel die skadu van die dood. Vyf van die sewe afdelings is in ’n mindere of meerdere mate elegies van aard, of die spreker in die gedigte is "denkend aan die dood". Selfs in die sterk erotiese afdeling "Sleeping with the past" is die erotiek meestal gekoppel aan verlies. Die manuskrip was vir Smith ook ’n bevestiging van die opvatting dat daar min dinge is wat die verbeelding aktiveer soos die dood.

Wat wel vir Smith nuut is in die poësie van Johann, is die godsdienstige aspek, al is dit partykeer net ’n verwysing na die Bybelse gegewe.

Oor sy gunstelingdigters sê Johann aan Bibi Slippers op LitNet: "Ek sou bladsye kon volmaak met gunsteling-digters, maar ek kan ’n klompie identifiseer wat gedien het (en steeds dien) as voorbeelde vir my, as die soort perfeksie waarna ek streef. Digters soos Philip Larkin, Thom Gunn, Seamus Heaney, TS Eliot, Gerard Manley Hopkins, Ciaran Carson, Derek Mahon, Paul Muldoon, Don Paterson, Christopher Logue, Emily Dickinson, Ted Hughes, WH Auden, Adrienne Rich, Gregory Orr, Denise Levertov, Derek Walcott, Marianne Moore, Kay Ryan, Elizabeth Bishop, Michael Donaghy, Stanley Kunitz, Ted Kooser en Tony Hoagland, om maar net ’n paar te noem. Ek lees elke dag van my lewe poësie en het om en by 40 000 gedigte wat ek oor die jare afgelaai het."

Johann vertel aan By, die Saterdag-bylae by Die BurgerBeeld en Volksblad (14 Januarie 2012) dat hy spyt is oor só baie dinge: "Mense wat ek te na gekom het, verál toe ek jonk was, geleenthede wat ek nie aangegryp het nie, projekte wat ek nie deurgevoer het nie. En verál dat ek nie hard genoeg gewerk het as skrywer nie. My gees was vir ’n té lang tyd die slaaf van my lyf. Ek het my aptyte soms onoordeelkundig nagejaag, maar ek wil glo dat ek met ’n ompad tóg uitgekom het waar ek wou wees, min of meer." Hy erken verder dat hy op sy gelukkigste was die tyd toe hy met xtc en psigedeliese dwelms geëksperimenteer het. "Dit was ’n tydperk van geweldige groei. Ek het aspekte van myself ontdek wat andersins afgesluit sou gebly het en vir die eerste keer verstaan hoe kreatiwiteit werk, hoe táál werk."

Human & Rousseau het in 2013 die vyftigjarige herdenking van hulle uitgewersverbintenis met Herman Charles Bosman gevier met die verskyning van ’n bundel van Bosman se verhale wat Johann in Afrikaans vertaal het. Vir Johann was die vertaling van prosa in Afrikaans iets nuuts. Hy het dit teenoor Willem de Vries in Beeld van 8 Oktober 2013 sy "vuurdoop" genoem. "Op die vlak van byvoorbeeld woordeskat en die verskeidenheid van sintaksis ’n openbaring gevind, & my respek vir prosaskrywers het geweldig toegeneem. Dis een ding om ’n verhaal te lees, dis iets héél anders om een te skryf. En dis wat die vertaler doen: hy (her)skryf die verhaal & kom telkens te staan voor dieselfde soort besluite as wat die oorspronklike prosaskrywer moes maak."

Oor Bosman se humor gesels Johann verder met Willem de Vries: "Bosman se humor is eiesoortig. Ek dink jy kan ’n Bosman-verhaal tussen ander humoristiese verhale versteek & lesers sal hom maklik kan identifiseer. Sy humor ontstaan uit konteks, fyn waarneming en mensekennis, ironies genoeg kennis van die Afrikaner. Selfs wanneer ek hom in Engels lees, hoor ek hom in Afrikaans omdat dit so outentiek Afrikaans is.

"Ek het ’n gedeelte van my laerskooljare buite Nylstroom, & my totale hoërskooljare op ’n plaas in die Waterberge grootgeword en dit was ’n hulp. Dit was ’n wêreld wat Bosman ook geken het. Die wêreld van Eugène Marais. Bosman is ’n meesterlike verteller en hy het goed begryp hoe belangrik tydsberekening is wanneer dit kom by humor."

De Vries wou ook weet of Johann enige probleme gehad het met die vertaling van Bosman se Afrikaanse Engels. Vir Johann was Herman Charles Bosman se eie stem dié een wat hy in sy kop gehoor het en nie Patrick Mynhardt s'n nie, wat hy nooit beleef het nie. Wat hom wel hoofbrekens besorg het, was Bosman se gebruik van sulke "láaaaaang sinne".

"Ek hou nie daarvan om die maklike uitweg te kies & dit op te breek in korter sinne nie, so dit het kopkrap gekos. Ek moes voor ek begin het met die vertaling besluit of ek die Afrikaans van daardie tyd gaan probeer weergee, en of ek ’n meer moderne Afrikaans gaan gebruik. Die eersgenoemde opsie was vir my buite die kwessie. Ek is te jonk om van daardie taal deurdrenk te wees, om daardie idioom te kan hanteer soos PG du Plessis byvoorbeeld meesterlik kan doen. Ek het ’n liefde vir ou woorde, en waar ek gevoel het ’n ou woord is nog in gebruik, het ek dit gebruik eerder as ’n moderner een. Ek wou nie klink soos die bloedlose nuwe Bybelvertalings nie.

"Bosman het soms sleng gebruik, verál in sy tronkverhale, en slang [sic] is die epidermis van taal, dis die deel wat die vinnigste verouder en in onbruik raak. Een pragtige verhaal, 'The Bluecoat's Story', [het ek besluit om] uit te laat. Dit steun nie net op tronksleng nie, maar handel oor die wonder van sleng, van ’n taal binne ’n taal as't ware, en selfs al kon ek dit vervang met hedendaagse tronksleng sou dit steeds ’n fiasko wees. 

De Vries het Johann die volgende vraag gestel: "Van Bosman bestaan Engelse en Afrikaanse weergawes van dieselfde verhale, maar is amper nooit presies dieselfde nie. Was die [sic] enigsins ‘n riglyn in die vertaling of was dit belangriker om die Afrikaanse ekwivalent vir die Engels te vind?"

Johann het as volg hierop gereageer: "Die tydraamwerk waarbinne ek moes vertaal, het my nie tyd gelaat om ander vertalings te lees nie. Ek verkies in elk geval om heel eerste my vars reaksie op papier te kry, en dan later aan ’n ander te kontroleer as daar ’n ander vertaling bestaan. Ek het Bosman báie, báie lank gelede gelees en toe net in Engels. Ek was bewus daarvan dat daar intussen Afrikaanse vertalings gemaak is, maar ek wou my nie daardeur laat beïnvloed nie, ten goede of ten kwade.

"Iets wat vir my as digter ’n vreemde ervaring was, is dat ’n vertaling meer van ’n spanpoging is as wat die geval is met byvoorbeeld ’n digbundel waar ek meer in beheer is. Sonder my uitgewer, Alida Potgieter, en ’n voortreflike redigeerder soos Elsa Silke nie, [sic] kan ek my die projek nie voorstel nie. Elsa se hulp was onontbeerlik. En dan was daar ook nog ’n proefleser/taalversorger wat insette gelewer het. Dit was ’n stywe leerkurwe, maar een wat ek geniet het. Nou sal ek graag Cold stone jug wou vertaal ..." 

As gevolg van die beperkte tyd het Johann nie tyd gehad om na ander vertalings van Bosman se verhale te gaan kyk voordat hy met sy vertaling begin het nie. Nadat die manuskrip sy hande verlaat het, het hy na Francois Griebenow se vertalings gaan kyk en wat hy wel gevind het, is dat Griebenow se verhale langer was as sy eie. "Die 'stem' wat Francois Griebenow aan Bosman gegee het, is heel anders as myne. Party sinne of frases sal onvermydelik dieselfde wees."

In 2014 verskyn Stil punt van die aarde, Johan se vierde bundel met nuwe verse sedert 2009. Dan was daar ook nog Judasoog, wat ’n keur uit sy ouer bundels bevat, maar ook ’n klompie nuwe verse. In Die Burger van 12 Mei 2014 vra Rudolf Stehele Johann uit oor hierdie vrugbare kreatiewe tyd in sy lewe. Stehele wou weet of die ontvangs van die Hertzogprys ‘n invloed op sy kreatiwiteit gehad het.

Johann se antwoord: "Nee. Net vóór die bundel waarvoor ek die prys gekry het, Die algebra van nood, het ek om en by 14 jaar lank nie gepubliseer nie. Maar ek het wel aanhou skryf en afrond, en ek het ’n geweldige klomp verse bymekaar gehad. Ek was ook in daardie tyd op soek na ’n styl waarin ek ­nuwe inhoude kon oordra. So, ná Algebra, nadat ek die prys ontvang het, het ek ’n groot aantal verse oorgehad waaruit ek vir die volgende ­bundels kon put, maar ek het ook met elke bundel nuwe verse bygeskryf.

"Ek moet erken ek beleef ’n vrugbare tyd: Die stroom ­nuwe gedigte het selfs nóú, vier jaar later, nie opgehou nie. Die muse plak by my, maar ek kla nie." Johann het verder aan Stehele vertel dat die meeste van die verse in Stil punt van die aarde nuwe verse is, hoewel daar ook verse is wat hy vroeër geskryf het, "verse wat ek ten tyde van die vorige bundels nie bevredigend kon afwerk nie, of wat nog van kiem af moes ontwikkel. Selfs van die verse wat van ’n vorige fase dateer word herskryf en aangepas om deel te word van ’n betrokke bundel."

Die "stil punt" in die titel verwys vir Johann na daardie "oomblik van insig, van verheldering. Vir my het die poësie ’n epifaniese aard. Die stil punt is die oomblik wanneer waar­neming oorgaan in verheldering, of in ’n wending. Vir my is die poësie ’n ars poetica, en handel alle gedigte uiteindelik oor die skryf van gedigte, oor die aard van taal."

Ook hierdie voorblad het ’n kunswerk van Judith Mason op. Johann hou al van kindsbeen af van haar werk, veral omdat sy "visueel dink", soos ’n digter. "Haar werk is vol transformasie, haar styl is metafories, die ooreenskuif van betekenislae."

Oor die vele nadigtings in Stil punt van die aarde verduidelik Johann aan Stehele dat dit nie iets is wat hy bewustelik doen nie. Nie alleen lees hy baie wyd nie, maar hy lees ook plaaslike digters se verse oor en oor. "Ek glo daaraan om die tradisie te verstaan waarbinne ek werk en daarbinne voort te dig. In ander gevalle is die ­gesprek met digters of gedigte bewustelik, soos byvoorbeeld die werk van NP van Wyk Louw en Sheila Cussons. ­Albei digters vir wie se werk en denkwêreld ek groot ­affiniteit voel. Die begeerte om op sommige gedigte te 'antwoord' is so oud soos die poësie sélf. Ek is ook lief daarvoor om verse te skryf waarin ek met skilderye, foto’s of beelde in woorde omgaan, eweneens deel van oertradisies."

In sy leesverslag as keurder skryf Henning Snyman oor Stil punt van die aarde: "Die bundel is ingedeel in ses afdelings, en elke afdeling word ingelei deur ’n aanhaling(s) van groot digters. Elkeen van hierdie motto-verse speel ’n integrale rol in die aard en die begrip van die betrokke afdeling. In ’n beperkte sin kan dit gelees word as wegwyser vir die leser, maar hier moet die leser versigtig wees want soms maak dit die verse in die afdeling oop, en soms wys dit die leser na ander paaie om die volle waarde uit die gedigte te kry.

"Stil punt van die aarde is nie ’n bundel wat onmiddellik gulhartig is teenoor die leser nie; dit is ’n bundel wat versigtig en proe-proe gelees moet word voordat die gedigte hulle geheime openbaar. Dit is ’n bundel waar die leser by feitlik elke vers lus voel om eers stil te staan, en iets oor elke gedig te sê of te skryf. Kortom: werklik ’n 'fyn net van die woord'. (...)

"De Lange is ’n ware woordkunstenaar. Die genot om ’n woord te verken in al sy vorme – klank, betekenisveld, emosionele krag, sintaktiese avontuur en die lae van sy betekenis – dït is die sentrum van De Lange se kuns. En dït is die ware aard van die woordkuns. Teksintelligensie is nie die eiendom van die teks wat toegewikkel is onder teoretiese kennis en verwysings of versluierde gesprekke met ander skrywers nie; dit is om daarin te slaag om die woord binne sy eie aard 'volkome' te maak, wat aan die objek van die kunswerk/gedig helderheid gee en om die woord en woordsamesyn te vind wat lei tot nuwe betekenis. Dit is al hoe meer De Lange se forté, sy handtekening. (...)

"Soos voorheen bewys De Lange opnuut sy sin vir ritme, sy stylvolle hantering van die vormvers, by name die kwatryn, en sy fokus op skoonheid – nie die estetika nie, maar die skoonheid van orde. Oral in elke vers is daar die bewustheid van die realiteit, maar deur die pyn van die realiteit heen, is die woord en die gedig die troos. Uiteindelik is daar niks skels of luidrugtigs in hierdie bundel nie, maar ’n stilte, ’n bewoënheid – intens, maar innig.

"Dit is gevaarlik en ’n bra nuttelose akademiese oefening om die bundels van ’n digter met mekaar te vergelyk. Stil punt van die aarde is egter ’n hoogtepunt, nie net in Johann de Lange se werk nie, maar in die Afrikaanse digkuns en letterkunde. Ek beveel dit ten sterkste aan vir publikasie."

Marthinus Beukes skryf as volg oor Stil punt van die aarde in Beeld van 17 Maart 2014: "Die verhouding tussen taal en digterskap is in hierdie bundel ’n belangrike tema. In die eerste afdeling, 'Josefskleed', word die taak van dig en digkuns in variantvorme veelkleurig geskets.

"Weerklanke van ander digters kom voor, maar veral die metaforiese gestaltes van die perdeby, lewerik, trapsuutjies, duif en kat maak van die digter ’n woorddief in God se boord (soos die dief in Cloete se gedig 'Rotsode').

"Stil punt van die aarde is nogeens bewys van De Lange se virtuose digterskap – sy berekende bundelbou en tematiese veelstemmigheid sal in die Afrikaanse digkuns bly voortstu. 'Hy los sy spore op papier', soos dit in die gedig 'Narwal' uit Vaarwel, my effens bevlekte held, saamgevat word."

Op LitNet sluit Joan Hambidge haar bespreking van Stil punt van die aarde só af: "Soms kom daar ’n bundel oor jou lessenaar wat ’n unieke plek inneem en die leser se chakras dwingend deurmekaar krap. Stil punt van die aarde is so ’n bundel. Eliot se uitsprake oor wat van die digter verwag word, word nogmaals in hierdie uitsonderlike bundel bestendig."

Vir Philip John (Rapport, 9 Maart 2014) vat die gedigte wat handel oor die erotiek en die dood die "emosionele kern" van die bundel vas. John meen dat alhoewel Stil punt van die aarde die Afrikaanse poësie nie in ’n nuwe koers dwing nie, "behou De Lange sy posisie as digter wat Afrikaanse poësie onverskrokke laai met ’n emosionele intensiteit wat moeilik geëwenaar gaan word".

Op Versindaba skryf Tom Gouws: "Die eerste twee afdelings van die bundel, ‘Josefskleed’ en ‘Spore’, wemel (in die mooi sin) van diere, voëls en insekte. Na my mening is die meeste van hierdie gedigte die grootste bate van die totale bundel. Jy lees asemloos en vol verrukking hoe die digter met ’n fyn waarnemingsvermoë, ’n totaal oorspronklike digterlike beskrywing, briljante metaforisering en ’n verbysterende stilistiese skeppershand beeldgestalte aan hulle gee. Deurgaans word die beskrywings gebalanseer tussen twee uiterstes: enersyds die verwording wat ek vroeër genoem het, en andersyds die mimetiese (waarbinne die spieëlkode die sterkste vooropgestel is). Dit word ’n heerlike spel wat boeiend aan verlossing deur vereenselwiging beslag gee."

Gouws is nie altyd só vleiend oor al die gedigte nie, maar hy sluit sy resensie hiermee af: "Hier is uitstaande verse in hierdie bundel. Helaas is daar ook heelwat swakker gedigte (ek sou byvoorbeeld die laaste twee afdelings van die digbundel nie ingesluit het nie, ’n gedig of twee uitgesonder). Maar, dis onteenseglik waar: De Lange is bepaald een van ons groot digters in Afrikaans, en hierdie bundel bevestig sy kragtige digterskap." 

Hierdie vrugbare tyd in Johann se digterslewe word in 2016 voortgesit met die publikasie van ’n Hunkering se grein by Human & Rousseau.

Joan Hambidge wou by Johann weet hoe die leser die idee van ’n hunkering se "grein" moet verstaan (Netwerk24, 22 Augustus 2016). Johann verduidelik aan haar: "Vir my het die poësie net een onderwerp en dis taal sélf. Die 'herinneringe' van die titel gaan nie net oor ’n terugblik op die verlede nie, maar ook ’n terugreis deur jou eie skryfwerk. Taal sélf het ’n tekstuur. Wanneer jy ander skrywers lees, is dit daar, onverwoordbaar, maar voelbaar. En wanneer jy skryf, werk jy met verskillende registers, verskillende teksture, en as jy suksesvol is, voel jou leser die grein van jou taal, van jou unieke stem. En vir my, ná ’n leeftyd van eroties skryf (eerder as erotiek skryf), is ek bewus daarvan dat taal léwend is, dat daar ’n lyflike ervaring is, en dat woorde en klanke by my ’n lieflike dimensie by skryf bring."

Oor die invloed van NP van Wyk Louw op Johann se digkuns in die algemeen en spesifiek by die skryf van ’n Herinnering se grein vertel hy aan Hambidge dat soos ’n mens begin lees, verskillende skrywers in die ontwikkeling van jou skryfkuns vir jou oopgaan. "Louw was nie een van die digters wat vroeg reeds met my gepraat het nie. En hy het mý gekies, nie ek vir hom nie. Hy het my só vasgevat, en ’n gesprek begin wat nou al meer as 30 jaar duur. By hom het ek akkuraat leer skryf. Hy het my veral geleer wat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans is.  Hy is die Poolster, hy rig my, en hy bly immer onbereikbaar."

Op LitNet skryf Henning Snyman dat Johann de Lange in Hunkering etlike digvorme gebruik soos kwatryne, etse, limerieke, spotgedigte en parodieë. "Belangrik is egter om in hierdie bundel nie na besondere kenmerke van digsoorte te soek nie. Die teks is te spontaan, te ontdaan van enige pretensie of selfs die skyn van pretensie, te direk eerlik. Die digter word, in goeie sin, verlei deur die skep van paradigmas. Dit gee aan die bundel ’n besondere spontane aard, maar die dubbelkantigheid van die woord bly nie agter nie. Johann de Lange is ’n deurwinterde digter, maar in ’n Hunkeringe se grein kom ’n gemaklikheid met die woord na vore wat dui op ’n volwassenheid in die digter se verhouding met die taal soos geen van sy vorige werk nie. Om NP van Wyk Louw na te praat: Dit is asof die digter 'in vreugde en spel die woord uit sy hand laat val'. (...)

"’n Hunkering se grein is ’n veelkantige bundel en plaas telkens die fokus op ’n verdere aspek van die mens en sy pyn en eensaamheid. Die bundel is ’n viering van die kriptiese woord, maar ook van die gelaaide woord. Dit deel die taalspel met, en van, ander digters, maar is uiteindelik eg menslik en persoonlik. In een woord: ’n pragbundel."

Op Netwerk24 skryf Tom Gouws (10 Oktober 2016) dat as ’n mens die woordjie "grein" neem in sy betekenis as gewigsmaat, kan die leser ’n bundel te wagte wees "waarbinne die aarde en sy waarde getakseer of geweeg gaan word met die swaartekrag van verganklikheid. Niks hiervan is nuwe temas nie, uiteraard die jukstaposisie daarvan ook nie, maar De Lange se meesterlike digtershand ontroer die leser in hoe in vers ná meedoënlose vers die ontglippende oordeel probeer deurgrond, verduur en verduursaam. (...) Johann de Lange lewer met hierdie digbundel ’n ontroerende huldeblyk aan die onvernietigbare lewe, en die dood, sy gelate pleitbesorger."

Hennie Aucamp was vir Johann ’n mentor, ’n vriend, ’n geesgenoot en iemand wat ’n besadigende invloed op Johann se meer "heethoofdige" temperament gehad het. Johann vertel aan Joan Hambidge op Netwerk24 dat toe hy Hennie Aucamp voor sy debuut as digter ontmoet het, hy geen benul kon gehad het van die belangrike rol wat hy in sy lewe sou speel. "hoe hy dit sou verryk, of dat ons vriendskap tot en met sy dood sou duur. Hy het my aan sóveel nuwe dinge bekend gestel. Hy het ’n groot verwysingsraamwerk gehad, wat dit heerlik gemaak het om  met hom te gesels. Die ganse taalregister is bestryk, en niks was taboe nie. Hy het by my ’n liefde vir ou woorde en uitdrukkings gestig.

"Hennie het my, nes Louw, geleer dat helder denke in die eerste plek jou styl moet rig. As jy helder dink, sal wat jy skryf helder wees. As daar ’n fout is met ’n gedig, moet jy dit gaan soek in die dinkwerk daaragter, en/of in die taal.

"Dit was ’n vreugde om in die laaste 15 jaar van sy lewe sy ontwikkeling as digter mee te maak. Dit het ’n verdieping in ons vriendskap gebring. In ’n Hunkering se grein het ek gehoop om minstens één gedig te kon skryf om hulde te bring. Wat gevolg het, was ’n stortvloed van gedigte oor hom en vir hom. Uiteindelik kon ek ’n hele afdeling in die bundel aan hom wy, en só weer die gesprek met hom hervat."

In 2017 publiseer Johan Gulp met die subtitel Kaapse paragrawe 1993-1999. Dit bevat inskrywings uit Johann se dagboeke.

Joan Hambidge (op haar blogspot) skryf dat hoewel mens met die eerste lees van die dagboeke, gekonfronteer word met die seksuele ervaring en met cruising en daar op verskillende maniere na die manlike geslagsorgaan gekyk word, daar ágter hierdie beskrywings veel meer dinge gebeur.

"Dit is ’n boeke van eensaamheid, ellende: die verwerking van ’n pynlike liefdesverhouding (en verraad) en die gay-mens wat moet vrede maak met sy posisie as uitgewekene. En dit is ’n soort kladboek vir die digter. Lesers wat bekend is met De Lange se digkuns, sal die impulse sien vir ’n gedig of koerverhaal.

"Die geweldige eerlikheid is wat hierdie boek so aantreklik maak. Ons sien byvoorbeeld hoe die jong Johann (toe Daniël) deur sy oom verwyt gemaak word dat hy die rede is vir sy neef se seksuele voorkeur. Daar is ook die verwysings na die sibbe en die understated beskrywing van hoe ’n suster deur die weerlig doodgeslaan word, tref diep. Die ellende van dood - onder andere ook die dood van die minnaar se moeder - word ingehou beskryf. (...) Die boek dwing bewondering af vir die ongebreidelde beskrywing van seks en die eerlike aanbod van alles."

In Beeld van 24 April 2017skryf Jean Meiring dat Gulp nie vir hom die hoogtepunt in Johann de Lange se oeuvre is nie. Hoewel die hoofvertelling in die inskrywings - die verhouding tussen De Lange en Damon - belangstelling en empatie by die leser wek, asook die vertelling van die verhouding tussen die skrywer en sy neef, Daniël, is daar vir die res min dinge wat Meiring geboei het. Vir hom was veral die sekstonele "banaal en saai".

Ook is die boek nie goed versorg nie: "De Lange se werk word immers gewoonlik gekenmerk deur die nougesette afweeg van die laaste lettergreep." Daar is ook woorde wat soms los en soms vas geskryf word en foute met spelling van persone se vanne."

In 2017 het Johann betrokke geraak by die AVBOB-poësiekompetisie en is hy aan gestel as hoofredakteur van hierdie projek. Die doel van hierdie projek was om ’n uitlaatklep te verskaf aan diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het en ’n plek van troos te skep. AVBOB het ook ’n bloemlesing van hoop en heling saam te stel waarin alle Suid-Afrikaners wat vertroosting soek, kan baat vind.

Die reaksie was oorweldigend - een wat AVBOB en die redakteurs nie in hulle wildste drome verwag het nie: 20 774 gedigte in al elf amptelike tale is deur 6 060 digters oor die hele Suid-Afrika heen, ontvang. 3 108 gedigte is vir publikasie aanvaar en digters het R300 per gedig ontvang.

Frik Rademan, hoof uitvoerende beampte van AVBOB, sê dat die inspirasie vir die projek gespruit het uit mense se onvermoë om hulle verlies as gevolg van die afsterwe van ’n geliefde, te verwoord: "Een van die eerste dinge wat baie mense ons vra wanneer hulle hier aankom, is om hulle te help met die begrafnisbrief. En om een af ander rede is poësie die perfekte manier om verlies te verwoord. "Poësie behoort aan ons almal; dit is die eiendom van die mense." (avbobpoetry.co.za)

Johann het die volgende gesê oor die positiewe reaksie wat hulle gehad het: "Although the theme of the competition was mortality, it was in the category of hope that we received the most poems. And it is with a slow kind of joy that one realizes that, despite the difficulties our country and its people are experiencing right now, not everybody has given up hope."

’n Soortgelyke kompetisie is in 2018 aangebied.

Publikasies:

Publikasie

Akwarelle van die dors

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798114460 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 1982

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waterwoestyn

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117478 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Snel grys fantoom

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119705 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wordende naak

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798629878 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Rapport-prys 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nagsweet

Publikasiedatum

1991

ISBN

0947046364 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vleiswond

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131985 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat sag is vergaan

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134852 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vreemder as fiksie en ander kontrafeitsels

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136138 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tweede natuur

Publikasiedatum

2000

ISBN

0624039234 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Homeros

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die algebra van nood

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150484 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Judasoog: ’n keur uit die gedigte van Johann de Lange

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151498 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Weerlig van die ongeloof

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869194512 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vaarwel, my effens bevlekte held

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156301 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stil punt van die aarde

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798164917 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Hunkering se grein

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798172998 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gulp: Kaapse paragrawe 1993-1999

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780994701329 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Xlibris

Literêre vorm

Dagboekinskrywings

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Johann de Lange as samesteller

Johann de Lange as vertaler

  • Bosman, Herman Charles: Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Kaapstad: Human & Rousseau, 2013
  • Stockenström, Wilma: The wisdom of water. Kaapstad: Human & Rousseau, 2007 [ISBN 0798147490 (sb)]

Artikels oor Johann de Lange op die internet

Artikels en gedigte deur Johann de Lange op die internet

Artikels

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • ’n Groot dank aan Lacia Viljoen, hoof van Naln se Navraagafdeling, sonder wie se bereidwilligheid die werk nie gedoen sou kon word nie.


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Johann de Lange (1959–) appeared first on LitNet.

Theunis Engelbrecht (1965–)

$
0
0

Gebore en getoë

Philippus Theunis Engelbrecht is op 2 Maart 1965 op Kroonstad in die Vrystaat gebore as die jongste van drie seuns van Flippie en Lulu Engelbrecht.

Theunis se latere belangstelling in kultuur het sy oorsprong by albei ouers. Sy ma was vir baie jare musiekonderwyseres aan hoër- en laerskole en sy het ook die orrel in die kerk gespeel. Sy pa was lid van die toneelgroep op Bethlehem en hy was ook regisseur van die stukke wat hulle opgevoer het. Hy het viool en die trekklavier gespeel. Hierdie musiektalent het ook later neerslag gevind in Theunis se belangstelling in musiek.

Theunis begin sy laerskoolloopbaan aan die Suidrandse Laerskool op Kroonstad. Ná graad 1 vertrek die gesin na Bethlehem in die Oos-Vrystaat waar hy ’n leerling aan die Primêre Skool Jordania was. Hy voltooi se hoërskoolopleiding aan die Hoërskool Witteberg op Bethlehem waar hy in 1983 matrikuleer.

Hy begin reeds as dertienjarige skryf en sy eerste poging is deur die jeugtydskrif Patrys met ’n spesiale prys vereer. Van sy gedigte is ook in literêre tydskrifte soos Standpunte, Contrast, The Bloody Horse, Graffier en Ensovoort opgeneem. En dit is juis nadat hy die verse in The Bloody Horse gesien het dat ’n uitgewer Theunis gevra het om ’n manuskrip voor te lê. Die eerste poging is afgekeur, maar nadat daar ’n bietjie skaafwerk gedoen is, is die derde weergawe van die manuskrip vir publikasie aanvaar.

Só is Theunis se eerste digbundel, ’n gedig is so onskuldig soos ’n eier, in 1982 by Perskor gepubliseer toe hy slegs 17 jaar oud was. Hy het die verse vir die bundel dus geskryf terwyl hy in standerd 7 en 8 (graad 9 en 10) was.

In Tempo (8 Oktober 1982) som S v/d W die bundel as volg op: "Die deurlopende motief in die bundel is een van voortdurende skepping en strewe, die verse skerp beeldend. (...) Erotiek, skepping, geboorte en dood lê in byna elke vers ingebed. (...) Dit is ’n poësie van rock-kultuur, maar ook van vitaliteit en terselfdertyd eksistensiële angs."

Die kritici was oor die algemeen positief oor hierdie jong skoolseun se debuutbundel. George Weideman het in Die Republikein (12 Augustus 1983) geskryf dat Engelbrecht plek-plek erg "pretensieus" skryf, "maar die egtheid van jeugdige liefdesvreugde ("heimat-vers vir my lovely") en die verrassend-oorspronklike wyse waarop lewe en dood in beelde gestalte kry, toon dat ons hier ’n jong digter van formaat aan die woord het."

André P Brink was in Rapport (28 November 1982) van mening dat daar blykbaar ’n kompetisie is onder digters om te kyk wie die jongste debutante is, maar dat daar gelukkig soms iemand soos Theunis Engelbrecht is "wat dit heilsaam tuisbring dat dit op stuk van sake nie gáán om suffel of suffel jare, maande en dae nie, maar om die kwaliteit van die verse wat uit daardie ure, dae, maande, jare voortkom. En by Engelbrecht is daar terdeë blyke van kwaliteit. (...)

"Engelbrecht is klaarblyklik ’n digter wat die verse nie sommer uitgooi oor papier nie, maar wat met heelwat besinning te werk gaan. Dadelik bygesê (maar wie sou die anders verwag?): dis ’n bundel deurtrek van mankemente: van pretensieuse formulerings, van woord- en beeld-oordaad, van selfvertroeteling, van ’n adolessente beheptheid met die makabere romantiek van Nihil en dood.

"Maar te maai daarmee. So what? Wat my dié bundel telkens met ’n asem-intrek van verrassing laat lees het, en dit nadat ek heelparty van die verse al vantevore in manuskrip gesien het, is die onmiskenbare tekens van ’n werklike beduidende digter aan die woord. (...)

"Tel bymekaar die gedigte in die bundel wat onmiskenbaar en selfs opwindend van digtheid en digwaardigheid getuig, en mens kan nie anders as om te konstateer dat ons in Theunis Engelbrecht ’n digter  bygekry het wat nog sy eie pad deur ons literatuur sal kan loop – en wat dit aanpak met ’n bykans verstommende energie soos onder meer in sy stortvloed verse in die little magazines getuig."

Ook Johann de Lange (Die Vaderland, 30 September 1982) was beïndruk met die nuwe jong digter en hoewel daar swak verse in die bundel is, is daar ook onvergeetlike verse in ’n gedig is so onskuldig soos ’n eier. "Soms is die gedigte wat klankspel aanbetref bietjie selfbewus en oordadig, maar dit weeg nie naastenby op teen die onmiskenbare talent en eerlikheid waarvan die meerderheid gedigte getuig nie."

TT Cloete was egter nie so positief oor Theunis Engelbrecht se debuutbundel nie. In Tydskrif vir Letterkunde (Mei 1983) het Cloete geskryf dat nadat ’n mens hierdie debuut klaar gelees het en jy beskou weer die titel, dan lyk dit nie meer so onskuldig nie. "Daar lê ’n dwaling in die titel opgesluit. Die poësie is nie so onskuldig soos ’n eier nie. Miskien kan ons die onskuld van die titel verstaan as 'spontaan/spontaneïteit', of as eenvoud, veral as ons dink aan 'eenvoudige liefdesvers'. Die spontaneïteit het egter gelei tot onbesonne beeldspraak, so ’n oorvloed daarvan dat dié poësie moeilik leesbaar is en dat dit as ’n prototipe kan geld van hoe die beeld nié in die poësie moet lyk nie. (...)

"Ons het so effe behep geraak met die ouderdom van die debutant, maar as ons Theunis Engelbrecht vergelyk met die beginwerk van Antjie Krog of Annesu de Vos, dan val die vergelyking vir hom nie gunstig uit nie."

Theunis se tweede bundel, Skreeuparadys, het verskyn op die vooraand van sy laaste vraestel in die matriekeindeksamen in 1983.

Oor hierdie tweede bundel van Theunis het André P Brink in Rapport van 4 Maart 1983 geskryf dat ’n nuwe jong digter met sy tweede bundel kan maak of breek of hy kan gemaak-of-breek word. En, volgens Brink, moes Skreeuparadys nooit verskyn het nie aangesien só ’n bundel ’n groot onreg aan ’n belowende jong digter kan wees. "Elke enkele cliché van die adolessensie skreeu uit dié bundel," het Brink voortgegaan. "Wat in die debuutbundel dikwels met prysenswaardige beheersing gedig geword het, spat hier oor alle rande uit. Sentiment, selfs melodrama kan mens nog hanteer: maar die vreeslike geswolle retoriek maak dit meermale onverteerbaar."

Daar was, soos Brink dit genoem het, "bekoorlike klein hoogliedere", maar die res bly by "verregaande digterlike doenery" wat Theunis Engelbrecht dalk later vermaaklik sal vind.

Maar in Beeld (20 Februarie 1984) was René Marais ’n heel ander mening toegedaan oor Skreeuparadys. Vir haar is die digter se vermoë om beelde te vorm en te beskryf, besonders en sy woordskeppinge slaag daarin om ’n eiesoortige bekoring aan sy gedigte te gee. Maar sy "woordverliefdheid" kan daartoe lei dat die effek van die gedig in die slag bly. Sy sluit haar bespreking af: "Hierdie verse verleen ’n nuwe dimensie aan die Afrikaanse poësie deur ’n blik te bied op die wêreldbelewenis van die hedendaagse jong mens of jong kunstenaar en ter wille van hierdie verse alleen verdien die bundel (wat ten opsigte van gehalte min of meer gelykstaande aan Engelbrecht se debuutbundel is) al om gelees te word."

Verdere studie en werk

Vanaf 1984 tot 1986 studeer Theunis deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en behaal in 1986 sy BA-graad met Sosiologie en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke.

Theunis begin sy loopbaan as joernalis in 1987 toe hy hom aansluit by Beeld in Johannesburg as assistent-hoofsubredakteur van die kuns- en vermaakbylae, Kalender. Hy verhuis daarna na Kaapstad waar hy hom in 2000 by die teksredaksie van Die Burger in Kaapstad aanmeld. Daarna is hy vir ’n tyd lank in Kaapstad op Rapport se redaksie en keer dan terug na Die Burger as nagsubredakteur.

Hy skryf vanaf 1988 tot 1999 "Pop-Opskop" in Beeld, ’n oneerbiedige rubriek wat een maal só vir die destydse president PW Botha ontstel het dat hy die direksie versoek het om vir Engelbrecht af te dank – iets wat egter nie gebeur het nie.

Daarna was hy ook musiekregisseur van Punt Geselsradio, waar hy die program "Regstellende satisfaksie" aangebied het en ook die regisseur was van Rian van Heerden en Pik Botha se programme. Hy het ook die poprubriek “Sound bites” vir LitNet geskryf. As vryskutjoernalis het hy die ontstaan en internasionale deurbraak van die groep Die Antwoord in 'n reeks van vier diepte-artikels vir die koerantbylae By gedokumenteer.

In die vroeë 2000's het hy ook bydraes gelewer tot die rubriek "So by my kool" wat op Saterdae in die By (bylae tot Beeld, Die Burger en Volksblad) verskyn het.

Oor die swaard van die Tweede Boek wat soms swaar oor skrywers se koppe kan hang, het Theunis geskryf dat dit baie te doen het met die motief agter hoekom jy skryf. "Doen jy dit om aanvaar te word in sekere sosiale groepe en om jou ego te laat streel, kan jy maar vergeet: as jou tweede boek afgekam word, sal jy jou gat sien. Doen jy dit bloot omdat jy nie anders kan nie en omdat skryf vir jou net so onafwendbaar is soos eet, drink en slaap, sal geen vernietigende of hovaardige reaksie jou onderkry nie. Dit kan jou wel ondergronds laat gaan. En maak dat jy jou hart van jou mou afhaal." (Volksblad, 18 September 1996)

Voordat Om ’n laaitie te maak in 1986 verskyn het, verskyn daar in 1985 ’n jeugboek uit Theunis Engelbrecht se pen met die titel Kinders van die Kierangsee wat in 1987 in Engels vertaal is deur Mae Tweehuizen as Boys of summer en deur Daan Retief gepubliseer is.

Met die verskyning van Om ’n laaitie te maak begewe Theunis hom op die terrein van die roman. "Die teks is die belydenis van Arnold, oftewel 'little old me', se (nogal) groteske ervarings," skryf Joan Hambidge in Beeld van 2 Maart 1987. "Die verteller is ewe ongevoelig en hardegat as JD Salinger se Holden in The Catcher in the Rye (1951) ... Die verteller in Engelbrecht se teks bely deur middel van ’n regstreekse belydenis en briewe, en soos Salinger se Holden betrek hy die leser by sy eie kyk op sake, sy woede oor dit wat hy nie begryp nie en probeer verwerk. Net met een verskil: Engelbrecht se karakter is méér kompromisloos en teen die einde van die vertelling is die leser nie heeltemal seker of hy werklik moet hang nie. Wat is 'fiktief'? Wat is 'waar'?

"Want deur ’n besondere knap ontginning van die spieël-motief (aangekondig op bladsy 9) is die leser as’t ware besig – as ek Engelbrecht reg lees – om sy eie projeksies weer te gee en ten slotte saam met die verteller in onsekerheid te vernietig. In die dodesel (?) breek die verteller dan ook die spieëltjie. (...) Die eerste en tweede afdelings is voorts ook twee spieël-tekste van mekaar: in die eerste afdeling 'gebeur alles'; in die tweede 'ondersoek' die verteller ’n baie duidelike 'storyteller as liar', die implikasies van sy vrou (en moontlik kind) se dood. (...)

"Die teks is in sleng geskryf en Theunis Engelbrecht slaag daarin om die karakters geloofwaardig voor te stel. Om ’n laaitie te maak is ’n boek met sponk (soos een van die karakters sê) en helaas nie aan te beveel vir diegene met swak senuweestelsels nie."

Vir Pieter van der Lugt (Die Burger, 26 Maart 1987) is Om ’n laaitie te maak ’n "stewige werk" met ’n skryfstyl wat los is en nie geforseerd voorkom nie. "Die boek word ’n somber stemmingstuk met die atmosfeer van ’n John Cale-langspeler. Hoofsaak is miskien dat Theunis Engelbrecht met groot vaardigheid die Afrikaanse literatuur se pseudo-grens tussen literêre en kommersiële kuns help afbreek. Die boek sal ook die ontspanningsleser bevredig sonder om 'literêre waarde' prys te gee."

Maar André P Brink was in Rapport van 7 Junie 1987 nie so vleiend oor Om ’n laaitie te maak nie. Hy het sy resensie begin met ’n aanhaling uit die boek: "Jy's ook maar ’n psycho anyway." Só het die verteller aan die spinnekop gesê wat in sy kamer in die gestig gesit het – net voor hy sou hang omdat hy sy vrou Suzi en sy laaitie Hans doodgemaak het.

"En die leser wil hoeka saamstem. Want dis maar ’n sêd storie dié: nie soseer oor die misrawele gebeurtenisse daarin nie as oor die vertel self. Dis darem al heelparty jare dat lesers saamloop met The Catcher in the Rye. Sit maar Clockwork Orange ook by as jy so voel. En ritse ander geskrifte waarin ’n idiosinkratiese taal die spreker vir die leser voorteken.

"Maar Theunis Engelbrecht se geskriffie vertoon pueriel en jammerlik dun in sulke geselskap. Bietjie lawaai en minder wol; en op stuk van sake weinig meer as ’n irritasie. Want in die vertel-aksie lê geen openbaring nie; die storie is yl en eenselwig; en ná die eerste nuwigheid van die taal afgeskawe het, is ook dit maar eentonig. Nee, eerlik: Theunis Engelbrecht, glo ek, beskik oor meer talent as om sy eie tyd en die leser s'n só te mors."

In 1989 verwerk Shirley van Jaarsveld Om ’n laaitie te maak vir die verhoog en word dit in Die Kamer in Kloofstraat in Kaapstad op die planke gebring. Sy was ook verantwoordelik vir die regie van die stuk. Vier manlike akteurs word gebruik om Arnold te verteenwoordig en die storie van ’n gesinstragedie, vervreemding en dood te vertel. Die vier akteurs beeld almal ’n ander aspek van Arnold se persoonlikheid uit. Van Jaarsveld vertel aan Herman Fourie (The Argus, 5 Junie 1989) dat nadat sy die boek gelees het, sy besef het sy moes net eenvoudig dit verwerk vir die verhoog. "Die dialoog is baie snaaks en pateties. En die verhoogstuk is profeties – toe ek die foto van die Wit Wolf Strydom gesien het waar hy glimlag en vir die skare wuif, het ek vir Arnold gesien. Om ’n laaitie te maak hanteer die druk waaronder mense in ons samelewing gebuk gaan; mense kan dit nie hanteer nie en iets breek net binne-in hulle."

Die stuk se agtergrond is ’n teaterkafee met die gehoor wat by tafeltjies sit en die akteurs wat tussen hulle beweeg.

Met die verskyning van Om ’n laaitie te maak in 1986 beland Theunis onder die wakende oog van Suid-Afrika se sensuur-waghond en plaas hulle ’n ouderdomsperk van 18 daarop. Dit het veroorsaak dat hy besluit het om eerder sy aandag toe te spits op die wêreld van pop- en rockmusiek om uitlating aan sy skeppende vermoëns te gee en die letterkunde vaarwel toe te roep. Hy stig ’n groep Randy Rambo & the Rough Riders en hulle liedjie "Jong dames dinamiek maak my siek" is in 1988 op die bekende "Voëlvry"-album opgeneem. Randy Rambo en sy groep se album wat in 1990 verskyn het, Die saai lewe, word vir verspreiding verbied omdat die politieke en obsene inhoud daarvan nie die sensuurraad se goedkeuring weggedra het nie. In 1996 reik hulle weer die album uit met enkele veranderinge daarop en verander hulle die groep se naam na Die Naaimasjiene. Die verbod is later opgehef met ’n ouderdomsperk van 18 daarop. Die Naaimasjiene is 'n ateljeeprojek, maar het al opgetree by Houtstok 2, Oppikoppi en Kaktus op die Vlaktes en hul liedjie "Sê 'n gebed" is deur Johannes Kerkorrel onder die titel "Sê-sê" verwerk en opgeneem vir sy album ge-trans-for-meer. (Wikipedia)

Joan Hambidge beskryf die lirieke wat Theunis gedurende hierdie tydperk van letterkundige stilte geskryf het, as "grens-oorskrynend". "Hierdie skrywer het nog altyd ’n sintuig vir die absurde en transgressiewe gehad en indertyd in Stet en die tydskrif De Nieuwe Poes as Koekie Ziervogel bydraes gelewer. (Rapport, 16 November 2014)

Sy het dit geskryf as inleiding tot haar bespreking van Theunis Engelbrecht se "rowwe" roman, Papegaaislaai, wat in 2014 by Umuzi verskyn het – sy eerste boek sedert Om ’n laaitie te maak in 1986.

Papegaaislaai vertel die verhaal van Malletjie, ’n fotojoernalis wat deur Volksmond waar hy gewerk het, retrench word. Hy begin ’n privaatspeurder-vennootskap saam met Rocky, ’n DJ  met baie min geld. Hulle eerste taak as speurders is om ’n vermiste Afrikaanse sanger te vind. Op hulle soektog bevind hulle hul van Fietas tot in Brixton, Hillbrow en so ver as die Bosveld en terug.

Malletjie pas sy ouma in Fietas op waar sy saam met haar poedels Oubaas en Hilda woon en ook saam met Pik, die pratende papegaai wat geleer praat het in die tyd van "goeie Christelike Nasionale Opvoeding", soos Elmari Rautenbach skryf in Rapport (5 Oktober 2014).

Hambidge noem die verhaal "Engelbrecht-vintage" en sy beskryf dit verder as ’n "oneerbiedige, briljante" roman.

"Daar is ’n gespot met new age-sieninge en op bladsy 158 word die mees absurde titels naas mekaar gestel. ’n Satiriese klap na moderne skrywers wat so ewe slim-slim vir hul lesers wenke in die teks gee na die sleutels om die boek 'reg' te verstaan. Hier staan Potjiekos van Matie Brink nie om dowe neute nie. En dis presies wat hierdie roman doen. Die grappe is opgesluit in die vreemde mengsels."

Deon Maas het homself ook baie gunstig uitgespreek oor Papegaaislaai. In Die Burger van 13 Desember 2014 skryf hy dat in die soektog na die sanger skrop Malletjie en Rocky ’n "bynes van dekadensie oop wat nie Afrikaanse musiek en sy waardes in ’n goeie lig plaas nie.

"Hier is waar die satire-deel van die boek inskop. Of dalk nie. Dalk is dit glad nie satire nie. Dalk is dit net die waarheid van hoe die bedryf werk en is hierdie dalk die skrywer se wraak op ’n bedryf wat hom nog altyd met ’n vinger in die oog gesteek het. Dalk was dit nie ’n vinger nie.

"Die boek is ’n vinnige lees. Een van daai boeke wat jy nie laat in die aand moet begin nie, want môreoggend gaan jy moeg wees. Die karakters lewe. Al ken jy hulle nie, het jy hulle al langs jou in die kroeg gesien.

"Daar is ’n paar clichés en ander goed wat gebeur wat nie altyd te logies is nie, maar die humor in die boek en die gemak waarmee die storie vertel word, vergewe als. (...)

"Papegaaislaai is bef*k, foute en al. Dit mag dalk nie ’n Leserskringgunsteling wees nie, maar daar sal altyd een tannie wees in die boekklub wat gaan aanklank vind en dan haar vriendinne gaan ontstel deur dit aan te beveel. Dit is sonder twyfel my Afrikaanse boek van die jaar."

Op LitNet vertel Theunis bietjie meer oor sy lang letterkundige stilswye aan Beyers de Vos: "Ek was sowat 20 jaar lank popmusiekjoernalis by Beeld in Johannesburg. Ek moes uit die aard van my werk baie partytjies, bekendstellings en shows bywoon en het agtergekom wanneer rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf – kunstenaars, bemarkers, skakelbeamptes, promotors en maatskappybase – dronk raak by sulke geleenthede, hoor ’n mens die ongelooflikste stories. Soos oor dinge wat tussen die lakens gebeur, sangers wat rowwe partytjies met kaal kelners hou, kokaïensnuiwery, seksmisdade, ambisieuse bimbo’s wat die volgende blonde sangsensasie wil wees en enigiets sal doen om dit reg te kry, die ongelooflike geknoei en gekonkel agter die skerms, die dinge wat sterre bereid is om te doen net om ’n bietjie publisiteit te kry, ensovoorts, ensovoorts. Toe ek dus uittree as popmusiekjoernalis, het ek baie materiaal gehad wat gesmeek het om ’n storie te word."

Oor die subtitel ’n rowwe roman wou De Vos weet hoekom Theunis juis dit gekies het. Theunis verduidelik dat Malletjie se wêreld se werklikhede hard en koud is. "Dus is sy taalgebruik rof en grof en onbeskof. Hy draai nie doekies om nie en bak nie mooi broodjies nie. Hy het al genoeg dinge in die lewe gesien om hom hard te maak. Hy en sy buddy – Rocky Johnson, ’n trans-DJ wat onder die naam DJ Funk Soul Brother werk – beleef ook rowwe avonture in plekke soos ’n hoerhuis in Hillbrow, die Blou Bul Bush Pub in die Bosveld, die Brakpan-dam, Adult World in Melville en ’n miljoenêrswoning in Dainfern. Mense wat dit al gelees het, het vir my gesê dit het soos ’n roller coaster ride (ekskuus: ’n rit op ’n wipwaentjie) gevoel, en ook in daardie opsig is dit rof."

De Vos maak die stelling dat die satire in Papegaaislaai se fokus in besonder op die Afrikaanse musiekbedryf val en meer in die algemeen ook op die Afrikaanse kultuur en ons Afrikaners wat so behep kan wees met celebrities en skandale. Hoekom is Theunis dan só gefassineer met die vermaaklikheidsbedryf?

Vir Theunis is dit veral die "illusionêre en oppervlakkigheid" wat hom aantrek. "Hoe belaglik dit is as sogenaamde celebrities soos die Kardashians en al die ander kardoesjiane aanbid word asof die son nie net uit hulle gatte skyn nie, maar ook soggens daaruit opkom en saans daarin ondergaan. Die verdomming en vervlakking wat dit in die hand werk. Hoe die consumers daarvan basies soos skape gebrainwash word. Die hele idee van vals bewussyne wat sodoende ontstaan. Die skynheiligheid en rugstekery in die bedryf. Hoe sekere sterre se ego’s opgeblaas raak en dit van hulle klein monstertjies kan maak."

In die roman word ook die wêreld van die joernalistiek betrek – ’n wêreld wat die skrywer goed ken aangesien hy lank daarin gewerk het. Hy vertel aan De Vos dat al die nuusberigte en koerant- en tydskrifopskriftenet so oorgeneem is uit berigte in nuusbronne wat in daardie tyd (15 tot 21 Desember 2012) verskyn het. Al uitsondering is daardie berigte wat handel oor die sanger Zander Stander wat verdwyn het, sook die fiktiewe poniekoerant Die Volksmond.

Oor die taalgebruik in Papegaaislaai sê Theunis aan De Vos dat hy net weer besef het watter "befokte" taal Afrikaans is terwyl hy die boek geskryf het. "Mense wat dit nie wil glo nie, kan maar net Boerneef se gedigte gaan lees. Ek sal in geen ander taal wil skryf nie. Malletjie is Afrikaans- en Rocky Engelssprekend, so uit die aard van die saak praat hulle nie suiwer Afrikaans met mekaar nie, maar ’n mengsel van die twee tale. Dis ’n soort straattaal wat ek elke dag in die handel en wandel hoor en wat ek meer kleurryk en dinamies vind as vaal, hiperkorrekte koekstruiftaal. Rocky hoor heeltyd lekker Afrikaanse woorde en sêgoed by Malletjie, en hy wil hê Malletjie moet hom meer daarvan leer. En in die proses gaan hulle mal en speel baie met taal."

Theunis maak ook in Papegaaislaai ’n uitspraak tussen "goeie" en "slegte" musiek. De Vos wou weet wat hierdie verskil is: "Vir my is goeie musiek dié waarin op ’n oorspronklike manier omgegaan word met sosiale werklikhede, sonder oogklappe. Slegte musiek is dié wat niks te sê het nie en vol clichés is en ’n mens nie laat nadink oor enigiets nie. Die lirieke van die meeste kommersiële ligte Afrikaanse musiek klink of dit die skryfwerk van ’n graad 5-leerling in ’n skooljaarblad is. (As jy my nie glo nie, skakel net vir ’n uur lank in op kanaal 146 op DStv.) Dit is wat die lirieke betref. Wat die musiek self betref, is verbeeldingryke arrangements en cutting-edge production en die gewilligheid om grense te verskuif en nuwe dinge te doen die soort goed waarby ek aanklank vind. Daarom is dit so ’n skreiende skande dat die MK-kanaal op DStv toegemaak is, want dit was al kanaal waar ’n mens nog ordentlike musiek kon hoor en na ordentlike musiekvideo’s kon kyk. Dankie tog vir YouTube."

In 2015 publiseer Penguin die biografie van die Afrikaanse rapper, Jack Parow, onder die titel Jack Parow: die ou met snor by die bar geskryf deur Theunis Engelbrecht. In Volksblad (28 September 2015) skryf Koos Kombuis dat hierdie biografie van Jack Parow soos aan Theunis vertel verrassend is. En dit is beslis een van "daardie literêre hoogtepunte van die jaar" is. Hy noem dit literêr al is dit glad nie in hogere Afrikaans geskryf nie.

"Ek moet ruiterlik erken dat Die ou met die snor by die bar loshande een van die lekkerste boeke is wat ek al gelees het. En dit is vol cool prentjies ook! Eintlik hoef ek geen verdere redes te gee nie. Ek kan maar net aanhaal uit die teks om my punt te bewys."

Hy sou egter vreeslik graag die boek vir sy kinders wou gee om te lees, maar daarvoor laat Jack Parow die gebruik van dagga darem té lekker klink sonder om te vertel hoe gevaarlik dit kan wees. En dit is jammer, "want, hel, Die ou met die snor by die bar is ’n classic!"

Zander Tyler (Jack Parow) het aan Jan Taljaard vertel dat toe Penguin Uitgewers hom genader het om te hoor of hy saam met Theunis Engelbrecht aan ’n boek oor sy lewe wou werk, was hy uit die veld geslaan: "F*k, wil enigiemand dan ’n boek oor my lees?" het hy gewonder. Vir hom was dit belangrik dat sy eie stem in sy boek gehoor moes word en hy was baie beïndruk met Theunis wat dit reggekry het om Jack Parow se stem helder te laat hoor.

In Beeld van 19 Februarie 2001 vertel Theunis meer van boeke wat sy uitkyk op die lewe verander het. Onder hulle is RD Laing se The politics of experience, Erich Fromm se The art of loving, Letters to a young poet deur RM Rilke en Erica Jong se The devil at large (’n boek oor Henry Miller).

Hy brei ’n bietjie uit oor hierdie keuse: "Omdat ek vroeër sosiologie en analitiese sielkunde studeer het, interesseer die manier waarop mense sin maak van die sosiale werklikheid my – veral omdat hedendaagse werklikhede baie banaal en siek kan wees. Hieroor het Laing en Fromm uitvoerig geskryf.

"Stephen Mitchell, die vertaler van Letters to a young poet, skryf soos volg oor die boek: 'All through the letters are insights of a very high order. This is a book that has some qualities of a great poem – the density, the richness, the seemingly inexhaustible nourishment. And like a poem, it can mirror back to us our condition, changing as we change, clarifying as our vision becomes more clear, until its insights become as familiar and obvious as our own face.'"

Publikasies

Publikasie

’n gedig is so onskuldig soos ’n eier

Publikasiedatum

1982

ISBN

0628023111 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skreeuparadys

Publikasiedatum

1983

ISBN

0628024231 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kinders van die Kierangsee

Publikasiedatum

1985

ISBN

079590472X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 1987; vertaal deur Mae Tweehuizen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om ’n laaitie te maak

Publikasiedatum

1986

ISBN

0620088001 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Ombondi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Papegaaislaai: ’n rowwe roman

Publikasiedatum

2014

ISBN

9781415207147 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jack Parow: die ou met die snor by die bar

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781770229020 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Theunis Engelbrecht as vertaler:

  • Nicol, Mike: Staatsrotte. Kaapstad: Umuzi, 2016 [ISBN 9781415207338 (sb)]

Artikels oor Theunis Engelbrecht beskikbaar op die internet:

Artikels deur Theunis Engelbrecht beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Theunis Engelbrecht (1965–) appeared first on LitNet.


Miemie-Louw Theron (1898–1992)

$
0
0

Foto: Wikipedia

SêGoed van Miemie-Louw Theron

Was was haar stokperdjies? "Botter maak en stories probeer skrywe!" (Inligtingstuk by NALN)

Gebore en getoë

Maria Catharina Elizabeth Louw is op 25 Julie 1898 op die plaas Rietfontein in die distrik van Bethal op die Hoëveld van die destydse Transvaal gebore. Sy was die jongste van ses kinders van Adriaan Jacobus Louw en sy vrou. Daar was sewe kinders, maar een sustertjie is vroeg oorlede.

Ongeveer ’n jaar na Miemie-Louw se geboorte het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek. Die gesin het dit nie maklik gedurende die oorlogsjare gehad nie. Hulle plaashuis is afgebrand waarna hulle moes vlug voor die Britse magte. Hulle vader wat met die vee van ’n aantal vegtende boere na Swaziland getrek het, het dit reggekry om sy gesin by hom te kry. Hy is gevange geneem tydens ’n skermutseling en almal het in die konsentrasiekamp te Standerton beland, vanwaar hy as ’n krygsgevangene na Indië gestuur is. Hy het eers weer in 1903 teruggekeer na die verwoeste plaas. Sy vrou was toe al reeds terug op die plaas waar sy in ’n tent gewoon het.

Die boerdery is van voor af opgebou en al was die tye swaar en benard, het die Louw-egpaar dit tog reggekry om aan al ses hul kinders ’n goeie opvoeding te bied – die vier dogters het almal onderwyseresse geword, die oudste seun ’n predikant en die jongste seun het opleiding in die landbou gehad sodat hy kon help met die boerdery.

Hulle moeder was ’n onderwyseres in Paul Kruger se tyd en het aanvanklik die kinders tuis onderrig en na die oorlog is hulle na die CNO-skole wat die ouers self opgerig het aangesien hulle nie kans gesien het om hulle kinders na die Engelse staatskole te stuur nie.

Aanvanklik het sy elke dag sewe myl met die perdekar skool toe gery, totdat die kerk 'n koshuis laat bou het en sy daar kon inwoon. Haar verdere skoolopleiding het sy aan die Hoërskool  Hoogenhout te Bethal gekry waar CP Hoogenhout se seun, Imker Hoogenhout, destyds die skoolhoof was (die skool is na hom vernoem). Die skrywers Dirk Mostert en NH Theunissen was van haar skoolmaats. Imker Hoogenhout het baie belangstelling getoon in die Louw-kinders en Miemie-Louw het onthou dat hy gereeld haar klasopstel voorgelees het en ook voorgehou het as voorbeeld aan die ander kinders. Hy het ook by een van haar opstelle geskryf dat sy gerus kon probeer om te skryf. Hierdie opmerking het haar sterk aangemoedig op haar skrywerspad.

Albei die Louw-ouers het graag gelees en het al hul kinders van jongs af aangemoedig om ook te lees. Hul vader was veral lief vir godsdienstige lektuur, terwyl hul moeder die eienaar was van ’n groot versameling Nederlandse boeke wat deur die kinders verslind is. Miemie-Louw het haar moeder raadop gehad met haar onversadigbare leeslus.

Nadat sy van die menige Ridderstories uit die Middeleeue onder oë gehad het, het die jong Miemie-Louw ook sulke verhaaltjies begin skryf en wel in Nederlands. Sy kon op vyfjarige ouderdom al vlot lees en moes gereeld verse uit die Nederlandse Bybel aan besoekers voorlees.

Verdere studie en werk

Ná skool is Miemie-Louw na die Universiteit van Pretoria waar sy haar BA-graad in tale verwerf het en ook haar eersteklas Onderwyseksamen afgelê het. Sy het begin onderwys gee aan die Hoër Meisieskool te Potchefstroom en het tegelykertyd haar MA-graad in Hollands en Afrikaans aan die plaaslike universiteit te Potchefstroom behaal.

In 1925 is sy getroud met Pieter Theron, ’n boer van die plaas Uitvlug in die distrik Tulbagh in die Wes-Kaap. Drie kinders, Kobie, Hannah en Annette is uit die huwelik gebore. Annette het later ook ’n skrywer geword.

In Tulbagh was Miemie-Louw vir baie jare ’n besige huisvrou én skrywer. Sy was ’n aktiewe deelnemer aan die gemeenskapslewe op Tulbagh en was onder andere lid van die skoolraad en die openbare biblioteek, asook bestuurslid van die ATKV, die landbougenootskap, die ACVV en die VSB.

Op 18 Februarie 1969 is haar man wreed op hulle plaas vermoor deur twee ontsnapte misdadigers en sy is aangerand en beroof. Hierna het sy by haar dogter Annette Snyman op Stellenbosch gaan woon, maar trek terug na ’n huis op Tulbagh na haar dogter se dood in ’n motorongeluk in 1981. Sy is later na  Huis Disa op Tulbagh. Die historiese huis op die plaas, wat reeds in 1803 gebou is, word eers beskadig deur die aardbewing wat die omgewing in 1969 tref en in November 1972 word dit verwoes deur 'n brand.
Die heel eerste storie wat uit Miemie-Louw se pen verskyn het was ’n verhaaltjie oor "Haar ideaal" wat sy geskryf het vir ’n wedstryd wat deur Die Huisgenoot aangebied is, waarmee sy die eerste prys in 1928 losgeskryf het. Sy was só aangevuur deur hierdie vroeë sukses dat sy dadelik, met Vondel as haar model, probeer het om ’n klassieke Bybelse drama, Saul, aan te pak. Gelukkig was sy sy wys genoeg om eers die drama aan prof SPE Boshoff te stuur om sy kritiek te verkry. Hy het haar sterk aangeraai om aanvanklik iets minder ambisieus te probeer: "Dus nie publiseer nie, is my opregte raad," het hy geskryf. "Maar ook nie moed opgee nie. Dat ’n Afrikaanse boervrou so iets as Saul  kan skrywe, is reeds baie verdienstelik. Bedink dat 'high failure o'erleaps the bounds of low success'."

Miemie-Louw was toe al moedeloos na al die maande se gesukkel met die skryf van die drama en het besluit om vereers net beskrywende stukkies aan die Tydskrif van die SA Spoorweë en Hawens te stuur. Kort hierna het Tannie van Die Brandwag haar gevra om ’n kortverhaal te verwerk tot ’n vervolgverhaal vir Die Brandwag en die sukses van Bennie het haar van voor af geïnspireer om weer ernstig te begin skryf. Die resultaat was haar eerste boek, Op eie wieke, wat in 1931 verskyn het met ’n baie mooi voorwoord van SPE Boshoff.

In Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging (1939) skryf PC Schoonees as volg oor Op eie wieke: "Die opdraande stryd van ’n weduwee met drie dogters, wat na die Engelse Oorlog terugkeer na ’n verwoeste plaas, word in hierdie verhaal geskets. Een van die dogters word moeg van die doellose plaaslewe en besluit om ‘op eie wieke’ te gaan drywe. Sy neem ’n betrekking aan as hulp in ’n ryk boerefamilie, waar sy veel onaangenaam belewe en van ’n moord beskuldig word. Daar ontmoet sy egter ook weer ’n vriend van haar jeug, wat haar beskerm en uiteindelik haar liefde win.

Schoonees het gemeen dat Theron geen literêre pretensies in haar skryfstyl het nie. Sy het goed daarin geslaag om die uiterlike gebeure uit te beeld, maar sy het nie goed daarin geslaag om die "innerlike sielslewe" te teken nie.

"Tog besit hierdie beskeie skryfster enkele opmerklike kwaliteite. In die eerste paar hoofstukke het sy die lewe van twee plaaskinders met onmiskenbare talent geteken. Met die innige opmerksaamheid van ’n moeder slaan sy hulle ontwikkeling gade en selfs die geringste insidentjies blyk van groot belang te wees. Ook verras sy ons telkens deur die skerpsinnigheid waarmee sy die verhouding tussen gesinslede en kinders betrag. Haar krag lê nie in die skildering van heftige emosies nie, maar in die uitbeelding van huislike toneeltjies. (...) Die gesonde lewenshouding van die skryfster en die gesellige manier waarop sy sonder enige poging tot mooiskrywery haar verhaal meedeel, sal ongetwyfeld baie lesers aantrek."

Nadat Miemie-Louw vir ’n paar jaar in-diepte navorsing in histories bronne gedoen het, het haar volgende roman, ’n Wiel binne-in ’n wiel, in 1935 verskyn met die Anglo-Boereoorlog as agtergrond.

Schoonees (Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging) som hierdie roman as volg op: "’n Wiel binne-in ’n wiel kan gekarakteriseer word as geskiedenis in aantreklike vorm. Deur middel van die lotgevalle van ’n paar families herleef ons die gebeurtenisse vanaf 1896 tot na die Vrede van Vereeniging. Beskou ons die verhaal as historiese roman, dan kan dit nie geslaagd heet nie, want die mensbeelding is swak en die tegniek verouderd. Die skryfster se hoofdoel is om die geskiedenis van die woelige tydperk oor te vertel. Sy doen dit soms deur direkte meedeling, maar meestal deur die gesprekke of ervarings van haar hooffigure. (...) Die bou van die verhaal gelyk op die van D'Arbez en De Waal, ofskoon die skryfster geen jag maak op avonture nie, en met meer gevoel en innigheid skilder.

"Klaarblyklik is hierdie werk vir die jeug bedoel. Die herinneringe aan ons groot stryd begin al hoe meer vervaag, en hierdie simpatieke en lewendige uitbeelding van ons volksverlede is van groot opvoedkundige waarde. Die skryfster het ’n deeglike kennis van die periode, en die strekking van haar verhaal is kerngesond. Ofskoon haar hooffigure vaag bly, het sy ons ’n helder blik gegee op die hartstogte wat die volk beroer het. In die kamptoneeltjies word ons getref deur liefdevolle indringing in die leed van vrouens en kinders."

Vier kinderboekies getiteld Die Land van Waveren, dele 1 tot 4 het in 1937 in die uitgewers Van Schaik se reeks "Uit Eie Bodem" verskyn. Van Schaik het haar later gevra om in dieselfde reeks soortgelyke kinderboeke te skryf met die oog op die Ossewatrek in 1938. As deel van hierdie opdrag is in 1938 Die Franse Hugenote, Theunis de Klerk van 1838 en Theunis de Klerk van 1938 gepubliseer.

In 1938 het Miemie-Louw se eerste drama by Unie-Volkspers verskyn onder die titel Argentinië: oos wes, tuis bes. Haar ander drama, Die verlore dogter, is in 1950 uitgegee deur NG Kerk Uitgewers en het die eerste prys verower in die prysvraag wat die Algemene Armesorgkommissie uitgeskryf het. Dit vertel die verhaal van ’n jong plattelandse meisie wat na die groot stad wegloop om "iets van die wêreld te gaan sien" en deur die verhaal word die aandag gevestig op die kerk se rehabilitasiewerk, asook op die verskillende ondernemings en inrigtings van die kerk op die gebied van armeversorging.

Die boekie is gepubliseer met die oog op die Van Riebeeck-feesvierings in 1952. Een van die oogmerke was ook dat die stuk langs die roetes van die poskoetse opgevoer sou word. Miemie-Louw het dan ook die wens uitgespreek dat ’n deel van die toegangsgelde aan die Armesorgfonds geskenk sou word: "Dan sal ek voel dat ek ook iets gedoen het met my skryftalent vir dié groot volksaak."

As bestuurslid van die ACVV het Miemie-Louw eerstehandse kennis opgedoen van die probleem van die armblankes in Suid-Afrika. Sy het ook die verslag wat die Carnegie-kommissie in 1932 oor hierdie probleem die lig laat sien het, bestudeer. En daarmee as agtergrond het sy in 1940 die roman Die reënboog in die wolke gepubliseer.

In sy resensie in Die Vaderland van 9 Oktober 1940 het Abel Coetzee geskryf dat Die reënboog in die wolke ’n roman is wat ’n mens in elke leser in Suid-Afrika se boekrak sou wou sien. Dit gaan nie soseer om sy literêre waarde nie, maar eerder om die inhoud wat "pitkos van die eerste tot die laaste bladsy" bevat.

"Die skryfster het eerstehandse kennis van die onderwerp, en haar boek moet ongetwyfeld daarin slaag om geesdrif, belangstelling en liefde vir die saak op te werk. Al is die stof ernstig van aard, slaag die skryfster tog daarin om die preektoon te vermy. Boeiend word vertel en die verhaal wat ingevleg is, bring gang in die verwikkeling wat help om die aandag gespanne te hou."

In 1947 het Unie-Volkspers Atése gepubliseer – ’n roman met ’n Christelike strekking. Die resensent van Die Volkstem (onbekend) het dit ’n plaasroman met die sending as subtema genoem. Die  vader van die verhaal is ’n boer, maar sy ideaal was om ’n predikant of sendeling te word. Hy verplaas dus sy hartsbegeerte na sy kinders toe en spesifiek een van die dogters. Maar die skerpste een van die jongste twee dogters se kop staan medisyne toe.

Van vroeg af in die storie figureer die sendeling uit Soedan wie se vrou in Soedan oorlede is. Dan besluit die dogter om na die verwerwing van haar mediese graad Soedan toe te gaan.

Die resensent het verder geskryf: "Uit ’n kunsstandpunt gesien, is die boek baie los gebou. Dus omdat die skryfster haar hoofdoel, naamlik ’n warm pleidooi vir die sending, wou camoufleer. Dit het egter nie ’n te eensydige pleidooi geword wat sy doel sou mis nie. Daarvoor het die skryfster gesorg deur in alles wat sy behandel, die menslike nie op die agtergrond te skuif nie. (...)

"Sy het ook vir iets bykomstigs gesorg om die verhaal aantrekliker vir die gewone leser te maak. Dis die liefdesverhaaltjies wat telkens in verband met die kinders ingevleg word. (...) Die waarde van die boek moenie in sy letterkundige betekenis gesoek word nie. Dié is ten spyte van die geslaagde uitbeelding van onderdele, gering. Dis nietemin ’n onderhoudende verhaal en die skryfster het daarin geslaag om ’n treffende pleidooi vir die sendingsaak te lewer."

Miemie-Louw se laaste boek is in 1975 deur HAUM uitgegee onder die titel Al wankel die berge. JH het in Die Vaderland (25 November 1976) geskryf dat dit ’n verhaal is van ’n geloof wat vas staan soos die berge; "’n geloof in al sy volheid en vastigheid soos ouma Marais dit deur haar lang lewe ervaar het. En omdat ouma Marais besef dat ’n mens, die wêreld, nie sonder geloof kan bestaan en voortgaan nie, doen sy alles moontlik om deur al die swaarkry, teenkanting en teenspoed, dit aan haar kinders oor te bring.

"Die skryfster van hierdie pragtige verhaal weet waarvan sy praat en skryf, want sy het persoonlik ook deur die smeltkroes gegaan en die geloof in God behou. Sy weet wat geloof kan doen, nie net aan haarself nie, maar ook aan diegene met wie sy in aanraking kom. Die skepping van ouma Marais kan ’n mens sien as ’n flits van haar eie lewe. Pragtig gedoen en baie mense sal ’n les daaruit kan put wat van onskatbare waarde is."

Die manier waarop sy haar skryfnaam gespel het, het vir heelwat kritiek deur die jare gesorg – met die koppelteken wat tussen haar naam en nooiensvan geskryf word en haar getroude van laaste. Meeste van die mense het gemeen dat dit Miemie-Louw moes gewees het, maar, vertel sy self in ’n inligtingstuk by NALN, "dan sou dit tog ook verkeerd wees, en moet die vanne andersom staan, want Louw is haar nooiensvan. Nee, ek skryf dit met opset só, omdat ek Miemie-Louw nog altyd as ’n eenheid beskou. Dit was die manier waarop my eerste onderwyseres in die ou CNO-skool haar toegespreek het, waarskynlik omdat daar nog twee ander dogters in die klas was met die naam van Miemie. Ek was ondeund en besonder praatlustig, en moes my eie naam maar dikwels so hoor noem op ’n bestrawwende toon. Vandaar dat die dubbele naam my so bygebly het deur die skoollewe, en later ook op universiteit waar gepraat is van die 'Miemie-Louw-seksie' as bedoel word die Afrikaanssprekende meisie-studente. (Miemie-Louw was die heel eerste Afrikaanssprekende meisie wat in die Kollegebestel as student opgeneem is in daardie universiteit).

Miemie-Louw is in September 1992 op Tulbagh oorlede.

Publikasies

Publikasie

Op eie wieke

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1933
  • 1936
  • 1943

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers Beperk

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Wiel binne-in ’n wiel

Publikasiedatum

  • 1935
  • 1937

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Land van Waveren

Publikasiedatum

1937

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Argentinië: oos wes, tuis bes

Publikasiedatum

1938

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Theunis de Klerk van 1838: die Groot Trek

Publikasiedatum

1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Theunis de Klerk van 1839: die Ossewatrek

Publikasiedatum

1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Hugenote

Publikasiedatum

1939

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Land van Waveren. Deel II: Dirkie en sy kuiergaste

Publikasiedatum

1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Land van Waveren. Deel III: Dirkie gaan op reis na die Noorde

Publikasiedatum

1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Land van Waveren. Deel IV: Oos wes tuis bes

Publikasiedatum

1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Historiese kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Ou Kerk Volksmuseum in die Land van Waveren, Tulbagh

Publikasiedatum

1939

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Hortors

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels uitgegee

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die reënboog in die wolke

Publikasiedatum

1940

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Sosiale roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Atése

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewer

Port Elizabeth: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Godsdienstige roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Daar is geen toeval nie

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rondom Jerusalem is berge

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Suid-Afrikaanse Bybelvereniging

Literêre vorm

Godsdienstige roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verlore dogter: ’n toneelstuk in vyf bedrywe

Publikasiedatum

1951

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk Uitgewers

Literêre vorm

Godsdienstige drama

Pryse toegeken

Eerste prys in ’n wedstryd uitgeloof deur die Algemene Armesorgkommissie van die Kaapse NG Kerk

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soos een wat dien

Publikasiedatum

  • 1953
  • 196-

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk Uitgewers

Literêre vorm

Godsdienstige roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wees altyddeur bly

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afgebreekte mure

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Herstelde puinhope

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Groen druiwe

Publikasiedatum

1962

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Lig vir die nasies

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ses bakens: ’n geskiedkundige roman

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die skaduwee

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ruimte

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Al wankel die berge

Publikasiedatum

1975

ISBN

0798601957 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikel oor Miemie-Louw beskikbaar op die internet:

 

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Miemie-Louw Theron (1898–1992) appeared first on LitNet.

Irma Joubert (1947–)

$
0
0

Foto verskaf deur LAPA-Uitgewers.

Sêgoed van Irma Joubert

Haar beste eienskap: “My entoesiasme, dis wat die mense sê. Die lewe is vir my wonderlik, en daar is so baie dinge wat ’n mens nog kan doen en ontdek op soveel terreine. Daar is amper nie tyd om te slaap nie.” (Die Burger, 17 Oktober 2009)

Die allerdiepste gat van ellende: “As iemand ophou lag. Nie eensaamheid nie, maar sielsongelukkigheid, só erg dat lag verdor.” (Die Burger, 17 Oktober 2009)

“My stories kom uit die lewe self. Stories is deel van die lewe, dis deel van elke dag. Elke tiener wat verlief raak, elke kind wat gebore word, elke huwelik wat in ’n hofsaak eindig, is mos ’n storie. Elke oumens, elke kerkraad, elke dorp het sy eie stories.” (http://Romanza-lesers.wordpress.com/boeke/irma-joubert/)

“Want vir my is skryf nie maar net skryf nie – skryf is so deel van my soos asemhaal, dis in my bloed, dit gaan deur my hart kop toe. En daarom sal daar seker (hopelik) altyd weer ’n storie wees wat wag om vertel te word.” (http://Romanza-lesers.wordpress.com/boeke/irma-joubert/)

“’n Karakter kan nooit ’n middel tot ’n doel wees nie, dis ’n mens uit eie reg wat hom nie laat voorsê nie. Daar kom nie vir my ’n punt waar hulle self ontwikkel nie; hulle is klaar mens wanneer ek hul storie begin vertel. Daarom is dit glad nie lekker as ’n boek klaar is nie. Dan is die karakters nie meer elke dag by my nie.” (Die Burger, 28 Maart 2008)

Indien sy die langpad vat, waarheen? “Met ’n 4x4 boendoes toe – hoe boendoeër, hoe beter. Ek dink tog ek is ietwat van ’n ontdekkingsreisiger. Ek sou graag een toer in die middel-1800’s deur Afrika wou doen en, soos Livingstone, die Victoria-waterval ontdek.” (Die Burger, 17 Oktober 2009)

By watter figuur in die geskiedenis vind sy die meeste aanklank? “Met geeneen nie. Die geskiedenis het bewys hulle was maar ’n dom klomp. Ek kon seker gesê het Emily Hobhouse, maar ek is régtig nie baie goed met siektes en mense wat doodgaan en sulke goed nie. Dan eerder David Livingstone.”  (Die Burger, 17 Oktober 2009)

As wat wil sy in haar tweede lewe terugkom? “Net as ek self, maar langer en maerder en ’n bietjie slimmer. En miskien met ’n sangtalent en baie meer kuns in my. Maar dan moet my man nog net so lief wees vir my, anders bly ek sommer net ek.” (Die Burger, 17 Oktober 2009)

Oor die voortbestaan van Afrikaans: "Ag man, die hele debat irriteer my. Ons práát mos die taal, ons lees en skryf en sing die taal, ons bid in die taal, vir wat nou so kerm oor die taal? ’n Taal is juis daar om eerstens gepraat te word. Ek sien beslis nie stuiptrekkings van ’n sterwende taal in my gesprekke met mense rondom my nie. Engels is dié wêreldtaal, ons is as Afrikaanssprekendes bevoorreg om dit as tweede taal te hê, dit gee ons toegang tot die hele wêreld, ook tot die akademiese en navorsingswêreld buite die grense van ons land." (Taalgenoot, Winter 2010)

“Geskiedenis is fassinerend. Elke brokkie geskiedenis is ’n storie, maar ’n ware storie. Dit is seker hoekom dit in Engels his story genoem word.” (Die Burger, 1 Desember 2013)

Mense kritiseer haar omdat sy sulke “outydse taal” gebruik. “Ek doen dit aspris. Dis ­eintlik baie moeite om in die idioom van destyds te skryf, maar dis hoe die mense gepraat het. Nog iets – ek vloek nie in my ­boeke nie en ek gebruik nie neerhalende uitdrukkings nie.” (Die Burger, 6 Desember 2010)

“Jy moenie dink omdat jy jou lewe lank Afrikaans gegee het en al die reëls ken, jy weet hoe om ’n storie aanmekaar te sit nie!” (Get it Bloemfontein, 19 Junie 2013)

“Ek skryf oor gewone mense wat in moeilike tye liefde vind.” (Die Burger, 26 Julie 2012)

Oor haar stories wat ’n gelukkig einde het: "Sommige lesers hou van gelukkige eindes, ja; ander hou meer van ’n oop einde, iets meer uitdagend, miskien, iets wat jou laat wonder. Dis persoonlike voorkeur. Ek hou van ’n gelukkige einde, daarom eindig my stories gewoonlik so." (LitNet, aan Carla van der Spuy)

"Deur my navorsing probeer ek my eie perspektief op gebeure verbreed sodat ek vir my lesers ware stories kan vertel. Al wat vir my belangrik is, is dat lesers my boeke geniet." (Vrouekeur, 29 Januarie 2016)

"Met my navorsing verander my uitkyk nie, maar my perspektief verdiep wel. Hoe meer ek lees en luister, hoe beter verstaan ek dinge, veral uit die geskiedenis waaroor ek altyd gewonder het. Goed soos waarom hoogs intelligente mense soos die Duitsers Hitler só sterk aangehang het of hoe Christen-Afrikaners in die vorige bedeling kon redeneer soos wat hulle geredeneer het." (Vrouekeur, 29 Januarie 2016)

"Of dit stories uit die twee wêreldoorloë is, of uit ons eie Boereoorlog of Grensoorlog, of die huidige Siriese vlugtelingkrisis, die waarheid is dat gewelddadige konflik onskuldige lewens verwoes. En dat die mens uiteindelik bo dit kan uitstyg en voortgaan met die lewe." (Volksblad, 26 November 2015)

’n Boek van toeka wat ’n indruk op Irma Joubert gemaak het: "Ek het as st 7-Bosveldkind kennis gemaak met Los donkies deur HS van Blerk. Dit skets die sukkelbestaan van armblanke-houtryers wat tydens die depressiejare met donkiewaens hout van die Bosveld na die delwerye op Barkly-Wes gery het. Ek kon myself totaal inleef in die wêreld van dié mense uit my kontrei. Die boek het later een van die fondamentstene van my skryfwerk geword." (Huisgenoot, 26 Mei 2016)

Gebore en getoë

Irma Joubert is op 28 Augustus 1947 in Pretoria gebore. Haar ma, Alida Moerdyk, was haar lewe lank ’n verpleegster wat baie hard gewerk het. Na haar aftrede het sy soms vir die suster by hulle ouetehuis ingestaan as daar ’n behoefte was. Sy dien op die finansiële bestuur van die ouetehuis en is ’n ouderling. “Glo omdat die ou dames nie daarvan hou dat daar ná donker mans by hulle kuier nie. Sy het ook ’n klein viertrekvoertuig om self te kan veld inry vir haar groot stokperdjie, voëlkykery. My oumas was ook sterk vroue,” vertel sy aan aan Ilse Salzwedel.

Haar liefde vir stories kom waarskynlik van haar vurige Duitse ouma Silva Moerdyk, vrou van Gerrit Moerdyk, die argitek van die Voortrekkermonument. Sy was ’n nooi Pirow uit Oos-Pruise, die suster van Oswald Pirow, minister van verdediging van Suid-Afrika van 1933 tot 1939. “Ouma Silva het altyd stories vertel oor Noord-Duitsland waar sy vandaan gekom het. Ek het as klein dogtertjie eintlik vas geglo ek is ’n Pruisiese prinses. Ouma was baie polities, en ook ’n joernalis vir Die Boervrou, ’n tydskrif in die 1920’s. My ander ouma was Tienie Holloway, ’n kinderboekskrywer,” vertel Irma aan Ilse Salzwedel in Taalgenoot  van September 2007.

Irma vertel aan Annalize Dedekind (Volksblad, 8 Julie 2017) dat haar argitek-oupa, Gerhard Moerdyk, die een was wat haar ’n liefde vir geskiedenis gegee het: "Aangesien hy die argitek van die Voortrekkermonument was, het ek gereeld saam met hom daarheen gegaan. Veral die friese was vir hom ’n gunsteling, want feitlik die hele familie was die modelle hiervoor. Selfs die hond.

"Ek was baie lief vir my oupa en ons besoeke aan die monument het my ’n liefde gegee vir die moderne geskiedenis wat ek kan verstaan – veral die twee wêreldoorloë."

Die skryfgene lê diep in Irma, want behalwe dat Tienie Holloway ’n bekende kinderboekskrywer van veral versies was, het Silva Moerdyk in die 1920’s twee rympieboeke, Klaasvaak en Die lente babietjies, geskryf, asook ’n drama oor Paul Kruger.

“Bly stil, ek wil iets sê!” moes haar pa dikwels sê om ook ’n woord in te kry. Irma is die oudste van ses kinders, vier susters en twee broers wat heelwat jonger as die susters is, vertel sy aan Adéle Dempers (Volksblad, 2 Oktober 2010). “As jy in so ’n groot gesin grootword, besef jy gou jy moet praat as jy gehoor wil word.”

Sy is ook deel van ’n hegte familie met baie neefs en niggies. Begrafnisse is deesdae een van hul joligste byeenkomste, die familie lag en praat, hulle deel mekaar se smart en vreugde. Haar pa was ’n idealistiese boer en sy het haar vormingsjare op ’n Bosveldplaas by Nylstroom deurgebring. Haar pa het uitgeboer en toe as entomoloog gewerk. Haar ma, Alida, was ’n verpleegster. “Ek ken van min geld hê,” sê Irma aan Dempers.
.
Haar ma se ouers was Holloway. Oupa Holloway, wat getroud was met Tienie Holloway, was as jong man ’n arm student in Londen, later sekretaris van finansies en toe ambassadeur in Londen waar hy tydens die Tweede Wêreldoorlog met koninklikes en hoës skouers geskuur het. “Dis mos ook ’n storie wat vertel moet word!” sê sy aan Dempers. “My pa het my geleer jy kompeteer nooit met iemand nie, ook nie met jouself nie. Jy doen net jou bes.”

Irma se liefde vir die geskiedenis kom dus van haar voorouers. Behalwe dat haar ouma vir haar vertel het van die Boereoorlog en van haar oupa wat as tienjarige seuntjie in die konsentrasiekamp op Standerton was, het die Rebellie ook vir haar werklikheid geword toe Bart Nel haar voorgeskrewe boek op hoërskool was. “Die 1930’s is die tyd toe my ouers verlief geraak het, die 1940’s toe ek gebore is, die 50’s toe ek sorglose grootwordjare op ’n Bosveldplaas geniet het. Miskien is dit waarom ek skoon nostalgies kan raak oor alles in daardie tyd,” op die Romanza-lesers se webwerf.

Haar heel eerste skrywers aan wie sy op laerskool verslaaf geraak het, was Enid Blyton en Heinz Konsalik, vertel sy aan Kirby van der Merwe (17 Oktober 2009).

Irma het dus haar grootwordjare in die Bosveld geslyt waar sy saam met boeremense na aan die aarde geleef het. Hulle was ook mense wat geken het van droogte en swaarkry. Sy was ’n tiener in die 1960's, ’n tydperk wat vir jongmense opwindend was, maar vreesaanjaend vir hulle ouers. Sy skryf matriek in 1965 aan die Hoërskool Nylstroom.

Verdere studie en werk

Na skool is Irma na die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1968 haar BA-graad verwerf en in 1986 ’n honneursgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Sy en Jan is al veertig jaar getroud en hulle het drie biologiese seuns: Jan-Jan, politieke redakteur van Rapport, Michael en Wikus. Michael bestuur ’n visteelplaas in Amerika en Wikus is ’n prokureur. En dan is daar ook in 2005 ’n pragtige pleegkind, Madeleine, aan hulle toevertrou. Madeleine het farmakologie gestudeer.

“Madeleine het op ’n besondere manier deel geword van ons gesin,” vertel Irma aan Ilse Salzwedel (Taalgenoot, September 2007). “Sy was ’n leerder van my by die Hoërskool Gelofte, ’n topstudent, en ook ’n uitblinker in die debats- en redenaarskompetisies waarby ek betrokke was. Boonop was sy hoofdogter. Toe Madeleine Durban verruil vir die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, het ons steeds kontak behou. In haar tweede jaar op universiteit het Madeleine albei haar ouers kort na mekaar verloor. Na haar ma se tragiese motorongeluk het ek dadelik gery om haar te gaan bystaan. My man, Jan, het toe eenvoudig gesê: ‘Gaan haal haar, en bring haar na ons huis toe.’ Madeleine was ook die inspirasie vir Gretl, die hoofkarakter in Tussen stasies, want Gretl is net so mooi, slim, vurig en onafhanklik soos wat Madeleine in die die werklike lewe is.”

Irma en Jan het vir 35 jaar in Durban in KwaZulu-Natal gewoon, waar Irma onderwys gegee het – Afrikaans en Geskiedenis. Sy vertel aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 17 Oktober 2009) dat al kan sy van voor af ’n nuwe beroep kies, sy niks anders as ’n Afrikaans- en Geskiedenis-onderwyser sou wou word nie.

In 2004 het sy na 35 jaar in die onderwys besluit om af te tree en te begin skryf. Sedert 2009 woon hulle in Bloemfontein.

Irma is, soos Hanlie Retief dit in Rapport (6 Februarie 2011) stel, ’n kenner van die liefde. Haar rede is omdat haar man, Jan, haar liefhet. Haar kinderlewe was ook gelukkig met ouers wat omgegee het vir mekaar en lief was vir mekaar en hulle ses kinders wat, hoewel hulle baie baklei het, ook lief was vir mekaar. “En toe gaan  trou ek met Jan, ’n rotsvaste, liefdevolle, reguit mens. Ek is 63, hy is 64 (in 2011) en ons het afgetree nadat hy al die jare ’n ontwikkelaar was en ek ’n onderwyseres. Ons aftreedroom was om te doen wat ons wil, veral reis. Dis presies wat ons nou doen. Maar nie oorsee nie, dit doen ek saam met my seun Jan-Jan (adjunkredakteur van Rapport). My man is ’n jagter, visserman en veldmens, hy is nie ’n museumloper of katedraalkyker nie. Laasweek bel ’n vriend en sê die visse byt. Die volgende oggend is ons in die kar en Jan kom by die viswaters … Eintlik sou ek baie meer produktief geskryf het as ons nié afgetree het nie!” vertel sy aan aan Retief.

Sy het altyd gesê dat wanneer sy aftree, sy gaan begin skryf. En sy het altyd geweet dat sy móét skryf – as Afrikaans-onderwyseres was sy betrokke by redenaars- en debatskompetisies en toesprake. Die skool se jaarlikse toneelstuk was altyd Irma se baba en sy het partykeer ook die storie daarvoor geskryf. Na 2004 woon sy twee ATKV-skryfskole by om iets van die skryfproses te leer en sy debuteer in Oktober 2004 met ’n artikel vir Insig oor disleksie. Sy word benoem as Mondi-finalis en bekroon as Media24 se spesialis-joernalis van die jaar. ’n Kortverhaal van haar verskyn ook in Huisgenoot.

“Ek wou egter stories skryf,” vertel sy aan François Bloemhof (Die Burger, 28 Maart 2008), “nie net kortverhale nie, lekker dik stories – maar het myself afgevra wie op aarde sou by ’n boekwinkel inloop en ’n boek van ’n totaal onbekende skrywer koop.” Daarom besluit sy om vir ’n boekklub te begin skryf. Sy het by LAPA Uitgewers die riglyne vir hulle Romanza-reeks gekry en begin skryf.

Vonkpos vir die hart is die heel eerste boek wat sy geskryf het – “’n mens weet mos nie vooraf of jy ’n regte bóék kan skryf nie.” Die agtergrond is Natal, ’n bekende plek vir Irma aangesien hulle meer as 30 jaar daar gewoon het. Die Drakensberge, vir Irma een van die plekke in die land waarvoor sy besonder lief is, figureer ook in die boek. (Romanza-lesers)

Vier maande later is haar tweede boek, ’n Beskermengel vir Marlene, ook as deel van die Romanza-reeks gepubliseer. “Albei hierdie verhale het as kortverhale begin, toe word hulle te lank en toe word hulle boeke,” vertel Irma (Romanza-lesers). Bogenoemde twee boeke is in 2009 as ’n duet deur LAPA uitgegee onder die titel Veilige hawe.

Siska Martin skryf in Volksblad (8 September 2009) dat bogenoemde twee boeke baie lekker ontspanningsleesstof is sonder die gewone voorspelbare einde.

Na hierdie twee ligte liefdesverhale was Irma reg vir ’n groter uitdaging: historiese romans van nagenoeg 80 000 woorde. Soos vroeër gesê, het sy ’n passie vir geskiedenis. Nie soseer die geskiedenis van Wêreldoorloë nie, maar die geskiedenis van die mens wat in vroeër tye gelewe het, veral die tyd van 1900 tot die 1950’s. “Dit begin met die Anglo-Boereoorlog, die Eerste Wêreldoorlog en die gepaardgaande Rebellie van 1914, dis ook die tyd van die Depressie in die 1930’s, die Tweede Wêreldoorlog 1939 tot 1945, van die oorname van Afrikaner-nasionalisme in 1948 en die swart Uhuru in Afrika vanaf die middel 1950’s.” (Romanza-lesers)

Verbode drif word in 2006 ook by Romanza uitgegee, met ’n heruitgawe in 2009 by LAPA.

Dit handel oor die gedoemde verhouding tussen ’n boeremeisie en ’n Joodse jong man net na die Anglo-Boereoorlog, skryf Herman Wiid op LitNet. Hierin lees ons van ’n Suid-Afrika wat die leser van vandag hom amper nie kan voorstel nie. Hier is pa se woord wet, en of ’n vrou goed kan brood bak, was die vernaamste riglyn vir vroue se waarde. ’n Taal se stand is bepaal deur sy Bybelse waarde.

Die hoofkarakter is Elizabeth van Rensburg, ’n intelligente en verfynde meisie, en sy voel uit pas in daardie wêreld. Wiid skryf verder: “Gedurende haar tydelike verblyf in die Kaap het sy die wondere van opvoeding en onafhanklikheid beleef en weier sy om op haar ma se versoek na die warm Bosveld terug te keer. Maar as vyftienjarige het Elizabeth geen keuse nie en aan die einde van hoofstuk een bevind sy haar sak en pak terug op haar pa se plaas, binne sy outoritêre waardestelsel."

Sy praat haar ma om om haar pa se toestemming te kry dat sy kan klaarmaak met skool. Elke weeksoggend gaan sy skool saam met drie ander seuns van die omgewing, twee broers Greyling en Izak Katz, die Joodse winkelier se seun. Twee middae per week neem sy ook musieklesse by missus Katz, Izak se ma. Só raak sy vriende met die familie en leer sy ook vir Izak van naderby ken.

Die titel speel nie net op Elizabeth en Izak se verbode verhouding in nie, maar ook op twee ander karakters, Ester Katz en Hansie-wat-starag is. Dit is ook hulle “verhaal van hoe hulle die drif van hulle gestremdhede moet oorbrug om deur die gemeenskap as ‘normaal’ aanvaar te word. ’n Derde verwysing na die titel sluit in die metaforiese drif wat die Afrikaanse taal in die verhaal sal moet oorsteek om as erkende lands- en godsdienstaal gevestig te raak. Op metafisiese vlak kan die titel ook as simbolies gesien word van die drif wat taal vir (fiksie)skrywers daar stel as beperking vir die uiting van gedagtes en emosies,” skryf Wiid.

Wiid se indruk van die boek is positief. Hy voel dat Irma se verhaal een is van onmoontlikhede, grense, liefde en, bo alles, hoop. “Ons almal is, soos Elizabeth en Izak, prospekteerders in ons eie lewens en word gereeld met probleme gekonfronteer waarvoor ons oplossings moet soek. Die enigste ding wat my kwel, is die langdradige en effens lomp einde wat ontrafel soos die verhaal afsluit. Maar Verbode drif is vir my ’n literêre diamant wat hoop uitstraal en verdien om op elke leser se boekrak te pryk.”

In Taalgenoot van Winter 2010 vertel Irma dat Verbode drif op daardie stadium haar gunsteling van al haar boeke is. Sy noem dit ’n "lekker storie" wat op die waarheid gegrond is. Sy vertel verder: "Hoewel my ouma gesê het ’n mens moet nooit dat feite ’n goeie storie bederf nie. Ek het op Nylstroom grootgeword. Net buite Nylstroom op die pad Naboomspruit toe, staan ’n stokou wildevyeboom: Katz-se-boom. Die boom staan nou nog daar, julle kan gaan kyk as julle my nie glo nie. Mister Katz was ’n Jood wat regtig gelewe het – my mammie het hom nog in die Nylstroomse hospitaal verpleeg toe hy al baie oud en verswak was. Maar ’n opregte gentleman, sê sy nou nog. Toe mister Katz nog jonk was, het hy verlief geraak op ’n boeremeisie. In die boek noem ek haar Elizabeth van Rensburg, maar haar regte naam was juffrou Blom. Juffrou Blom moes op haar ma se sterfbed belowe dat sy nooit met mister Katz sou trou nie, omdat hy Joods was. Nie een van hulle is ooit getroud nie. Maar vir jare en jare het hulle Sondagmiddae uitgery en in hulle motortjie onder ’n boom gaan kuier. Verbode drif is dus my vertolking van die storie wat ek kleintyd gehoor het en wat my nog altyd oneindig bekoor het."

Verbode drif is in 2012 saans op RSG voorgelees.

Die mense in Irma se stories is régte mense en vir haar is die belangrikste verhoudings tussen geliefdes, gesinslede, familie, vriende, vreemdes, asook die mens teenoor die natuur, die gemeenskap en die tydvak waarin hy leef. Een van die belangrikste aspekte van Irma se skryfwerk is dat sy dit regkry om ’n tydperk in Suid-Afrika uit te beeld wat tot nog toe in die Afrikaanse letterkunde net ’n gewroeg afgegee het. Sy kry dit ook reg om die nostalgie en sjarme van daardie tydperk vir die lesers deur te gee.

Hierna volg Ver wink die Suiderkruis, wat in 2006 onder die Romanza-reeks verskyn het en in 2008 deur LAPA heruitgegee is. Irma vertel aan Salzwedel dat die storie self maklik is, want die hele lewe is mos vol stories. Sy begin by ’n prentjie van die karakters. Vir Ver wink die Suiderkruis se Kate het sy byvoorbeeld ’n foto van Catherine Zeta-Jones bo haar lessenaar geplak, en vir die aantreklike Bernard Neethling het sy Ryk Neethling se gesig gekies. “Dis natuurlik ook ironies,” sê sy aan Ilse Salzwedel (Taalgenoot), “want as jy nou onthou, was Bernard eintlik ’n arm Neethling in Ver wink die Suiderkruis. Ek hou van ’n storie met ’n kinkel. Kate en Bernard leef aan verskillende kante van die spreekwoordelike treinspoor.”

Ver wink die Suiderkruis vertel die verhaal van Kate Woodroffe, die dogter van ’n mynmagnaat. Die storie speel af in Suid-Afrika, in 1932. Vir haar praktiese navorsing vir haar meestersgraad in sosiologie oor die kultuur van armoede wat armes nie kan afskud nie, moet sy na Vrededorp om self met hulle te gaan praat. Maar daarvoor moet sy iemand hê om haar te beskerm.

Bernard het sy ouers jonk verloor. Hy moes jok oor sy ouderdom om by die myne te kan werk, maar op 22 is hy die woordvoerder van die Afrikaanse mynwerkers in loononderhandelinge met Kate se pa, die mynbaas John Woodroffe. Bernard word toe as Kate se lyfwag aangestel.

Stoffel Cilliers (Beeld, 15 Desember 2008) skryf dat die skrywer goeie navorsing oor die politiek en die sosiologie van die dag gedoen het. “Heel opwindend is die vakbondvergadering wat Kate, van haar medestudente en haar professor vermom bywoon en wat hulle haastig moet verlaat toe dinge te warm word. Dit is bekend dat 1932 die tyd was van die Depressie en die groot droogte; van die Carnegie-kommissie en sy ondersoek na die oorsake van die armblanke-vraagstuk; asook die dae van Hertzog en die goudstandaard.

“Maar dit is ook die jaar waarin twee stérk persoonlikhede, Bernard en Kate, se liefde tot die uiterste toe getoets word. Telkens breek die band tussen hulle en telkens is daar blye versoening.” Cilliers raai die lesers aan om gerus hierdie boek te lees.

Vir Danila Liebenberg (Volksblad, 19 Januarie 2009) is daar ’n innigheid aan die storie wat enige romantikus sal roer. “Die boek getuig van uiters deeglike navorsing wat die skrywer spesifiek oor Hertzog en sy beleid oor beskaafde arbeid gedoen het. ’n Groot Ja! Vir Joubert se roman.”

Cecilia Britz, Irma se uitgewer, voel toe dat Irma reg is vir ’n roman van 150 000 woorde. Die gevolg was Tussen stasies.

Oor die storie agter die boek vertel Irma aan François Bloemhof (Die Burger, 28 Maart 2008) en Ilse Salzwedel (Taalgenoot): “Ek het in 2004 vir my seun Michael en sy Duitse vrou Melli in die VSA gaan kuier, en hulle het my bederf met ’n bootreis na die Bahamas. Die eerste aand beland ons aan tafel, deftig geswart-nommertjie, gebaadjie en gedas, saam met vier vreemdelinge. Die ouerige dame langs my se naam was Sarah en haar uitspraak het Duits geklink, toe vra ek: ‘Are you German?’ Haar mond het ’n reguit lyn gemaak. ‘No,’ sê sy, en toe weet die storiedeel van my brein dat ek hier ’n stórie het – want ’n vrou van tussen 70 en 80 met ’n Oos-Europese uitspraak en die naam Sarah én wat beslis nié Duits is nie, het ’n storie. ‘Will you tell me your story?’ vra ek toe.

“Sy was ’n kwaaierige dame, maar die volgende dag kom sit sy onverwags langs my op die dek. Sy is ’n Jodin, vertel sy. Haar ouers was Pole, haar pa ’n kleremaker, sy die jongste van drie kinders. Toe Duitsland Pole op 1 September 1939 binneval, was sy agt jaar oud ...”

Uiteindelik het Sarah ontdooi en vertel dat sy, haar ma, sussie en ’n tante na Auschwitz geneem is waar haar tante gesterf het en haar ma ernstig siek geword het. Haar ma wou hê haar dogters moes ontsnap en het saam met ander vroue ’n graf gegrawe waarin die twee dogters toe lewend begrawe is sodat hulle in die nag kon ontsnap. Haar ma het dit beklemtoon dat hulle moes ontsnap voor dit begin sneeu, want anders sou hulle voetspore duidelik sigbaar wees.

Gretl (in Tussen stasies) is nes Sarah en haar sussie teen die Russiese soldate gewaarsku en is aangeraai om alles te probeer om in Switserland uit te kom. Ook is Gretl se sussie (soos Sarah s’n) aan die begin van die ontsnapping oorlede. Sarah en haar sussie is deur ’n Russiese soldaat gevind en hulle is weggesteek totdat hy met Sarah Frankryk toe kon uitwyk. Hulle is getroud en hy is na ’n 50-jarige huwelik op 93 oorlede.

Irma het geweet dat sy die storie ’n Suid-Afrikaanse agtergrond sou moes gee. Ook is daar veranderinge wat sy moes aanbring. ’n Jaar later het sy geweet dat sy Pole en Auschwitz sou moes besoek voordat sy Sarah se storie kon vertel.

Sy vertel aan François Bloemhof: “My man steek viervoet vas: Hy is ’n jagter en ’n hengelaar, nie ’n museumloper nie. ‘Gaan kyk na die Vrouemonument in Bloemfontein,’ stel hy voor. My seun Jan-Jan is toe saam; ons reis deur Oos-Europa per trein. Op die Katowice-stasie koop hy twee eenrigtingkaartjies na Auschwitz. Aardig. Ons staan later buite in die son net om te voel of ons nog lewe. Die volgende dag op die trein na Krakow sê ek: ‘Ek kan nie een van my karakters in Auschwitz laat ingaan nie. Maar ek gaan nog voort met die storie.’”

Sewe maande lank het Irma nog navorsing gedoen – net waar sy kon inligting kry, het sy gesoek en hoe langer die navorsing geduur het, hoe meer het die verhaal begin werklikheid word, en hoe meer opgewonde het sy geword. “Teen die tyd dat ek begin skryf, is dit ’n stukkie waarheid oor mense.”

Tussen stasies is die eerste titel in LAPA se Vrouefokus-program. Die uitgewers het gemeen dat daar genoeg leesstof vir die lesers van Afrikaanse romantiese fiksie is, maar dat daar ’n behoefte is aan stories met meer ingewikkelde intriges en waar die ontwikkeling van ’n liefdesverhouding nie sentraal hoef te staan nie. Dit stories se inhoud en lengte sal verskil van die “klub”-boeke.

Jaybee Roux skryf in Beeld (11 Desember 2007): “Gretl, die hooffiguur in Tussen stasies, word as jong kind aan die leser bekend gestel. Haar pa, ’n Duitse offisier in die Tweede Wêreldoorlog, is op die slagveld dood. Maar Gretl het ’n skeutjie Joodse bloed in haar: Gretl, haar ma, ouma en suster word op ’n trein geplaas. Daar is geen twyfel oor wat op hulle wag nie, maar Gretl word, onbedoeld, gered deur Jakób, ’n lid van die Poolse Tuisfront. Hy het geen keuse as om haar onder sy beskerming te neem nie, en raak toenemend geheg aan die gevatte wysneusmeisie. Maar die skeiding móét kom. Jakób neem Gretl terug Duitsland toe, na ’n onsekere toekoms. Hy lees van Afrikaners wat Ariese oorlogswesies werf vir aanneming, en besluit dis die aangewese rigting vir Gretl se lewenspad. Dié deel van die verhaal is boeiend, realisties en uitstekend nagevors.”

Gretl se aanneemouers in Suid-Afrika, Bernard en Kate Neethling van Ver wink die Suiderkruis, noem haar Grietjie en sy word ’n ouer aanneembroer, Kobus, ryker. En soos die lesers verder lees, kry hul antwoorde op vrae soos of Gretl en Jakob mekaar weer sou sien."

Hoewel die uiteinde van Grietjie se probleme vir Roux net te maklik en rooskleurig is, is Tussen stasies vir hom ’n boek wat nooit vervelig is nie en hy beveel dit van harte aan.

Wat vir L Viljoen (Literator, Desember 2008) uitgestaan het, was die treffende karakterbeelding van Gretl en Jakob. Ook het die karakterbeelding van die minder belangrike karakters oortuig. Gretl se sterk karaktertrekke word ook oortuigend uitgebeeld. “Sy hanteer die verwarring en konflik wat uit ras-, kultuur-, taal- en godsdiensverskille spruit met skranderheid en ’n verstommende insig, gesteun – en soms ondermyn – deur die sprokies van haar verlede. Uiteindelik is dit juis haar onvermoë om aan hierdie emosies en diep onderdrukte herinnering aan die trauma van haar kleintyd uiting te gee wat uitloop op haar totale ineenstorting en die bevredigende ontknoping van die verhaal. (...)

“Die agtergrond oor Pole, Duitsland, Tsjeggo-Slowakye, die Dietse Kinderfonds, asook Suid-Afrika in die vyftiger- en sestigerjare is deeglik nagevors, maar die historiese feite is nooit hinderlik aangelas nie. Dit vorm ’n integrale deel van die vertelling en bied ’n kritiese beeld van die kragtige dryfvere van ideologieë kort na die Tweede Wêreldoorlog wat met die jare vervaag het. Wat ook al die leser se belangstelling – in die geskiedenis, ’n lekker Bildungsroman, ’n boeiende liefdesverhaal, of ’n roman wat handel oor versoening tussen kulture, ideologieë, tale, rasse, en godsdienste – Tussen stasies stel nie teleur nie. Dit is inderdaad, soos die stofomslag beweer, ’n verhaal van die menslike gees se vermoë om ‘uit te styg en te oorwin’.”

Oor die einde van Tussen stasies vertel Irma aan Danila Liebenberg (Volksblad, 3 November 2007): “Ek het veral lank gesoek vir ’n einde. Die einde wat in die boek gepubliseer is, is die vierde een wat ek geskryf het. Vir my is die einde van so ’n aard dat dit die leser laat wonder of dit werklik die einde is en of dit die einde is wat Grietjie (die hoofkarakter) sou gekies het as sy self ’n einde vir haar verhaal kon kies.”

Irma vertel op die Romanza-lesers se webwerf dat sy vir ’n historiese roman baie navorsing doen voordat sy begin skryf, want as oud-Geskiedenis-onderwyser is korrekte historiese feite vir haar baie belangrik. “My navorsing gee dan vir my ’n raamwerk van feite, dan vleg ek fiksie tussenin sodat feit en fiksie totaal verweef word tot ’n eenheid. Die feite in die boek maak dat mense onwillekeurig die fiksie glo. En hoe meer ek nalees en oplees en plekke besoek, hoe meer word die storie realiteit, hoe meer diepte kry my storie.

“Voordat ek ’n storie begin skryf, leer ek eers my karakters goed ken, ek leef maande lank met hulle saam. Tydens my navorsing sien ek hulle in situasies waarvan ek lees, ek hoor hulle praat wanneer ek onderhoude voer met mense wat in soortgelyke situasies was, ek sien my karakters in die plekke wat ek besoek. Sodat, teen die tyd wat ek begin skryf, dit nie meer ’n storie is nie, maar ’n stukkie waarheid oor mense wat ek as verteller baie goed ken.

“En juis daarom is dit glad nie lekker as ’n boek klaar is nie. Want dan is die mense in die boek nie meer elke dag by my nie. Die nuwe mense van die nuwe boek trek dan by my in, en dit neem lank om hulle eers te leer ken en lief te word vir hulle, voordat ek weer hulle storie kan vertel.”

Irma se stories bestaan werklik: “In elke plattelandse dorp se storieskat was daar mos maar ’n Jood wat ’n geheime verhouding met ’n boeremeisie gehad het; elkeen van ons weet mos van die skatryk stadspoppie wat op die brandarm boerseun verlief geraak het; êrens ken ons iemand wat een van die 1948 Duitse wesies geken het. Elke ou foto vertel ’n storie, soos die maer Jode op ’n oorlaaide trein op pad na Auschwitz, of die regop burger in sy flenterbaadjie op sy perd – hy lyk nie meer as vyftien jaar oud nie. Ons oumas het vir ons kleintyd stories vertel, régte stories; ’n ou Poolse vrou op ’n plesierboot in die Bahamas vertel haar lewensverhaal; die kassier by die bank vertel hoe haar pa uit Rusland gevlug het en haar ma in Ierland ontmoet het. Of jy onthou dat Italiaanse krygsgevangenes ’n brug op julle plaas kom bou het en saans musiek gemaak het, jy lees toevallig van 500 Poolse weeskinders wat in 1943 na Oudtshoorn gestuur is, jy sien in ’n oerou koerantberig dat ’n ligte vliegtuig oor die Belgiese Kongo geval het – die vlieënier word vermis. Solank die mens nog die aarde bewoon, kan stories nooit opraak nie.” (aan Ilse Salzwedel, Taalgenoot)

Irma se volgende boek, Anderkant Pontenilo, word in 2009 by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is ’n liefdesverhaal met die Tweede Wêreldoorlog as agtergrond. ’n Italiaanse krygsgevangene bevind hom op ’n plaas in die Bosveld. Maar die oorlog self speel nie so ’n groot rol in die storie nie, aangesien die karakters geaksentueer word, vertel Irma aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 17 Oktober 2009). “Die roman het twee verhaallyne. Die Suid-Afrikaanse deel speel af teen die Afrikanerkultuur en -politiek van die jare 1933–1946, met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument, die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog net daarna, die skeuring in Afrikaner-geledere en die oorlog in die Noorde (eintlik El Alamein).

“Die tweede lyn begin in Italië met die opkoms van Mussolini, die uitbreek van die oorlog en die vertrek van die soldate na die Suide (eintlik El Alamein) – waar die twee storielyne ontmoet. En natuurlik, met ’n aantreklike Italianer op die plaas (al is hy nou ook deel van die ‘Roomse Gevaar’), watter Boeremeisie met warm bloed in haar are sal haar hart in toom kan hou?”

In Anderkant Pontenilo staan die Fourie-familie sentraal. Pa ondersteun generaal Hertzog wat neutraal wil bly, terwyl Oupa vir Smuts wat oorlog toe wil gaan, aanhang. Die seuns in die familie is agter DF Malan. Ons ontmoet vir De Wet en Klara en Gerbrand en Christine, almal jongmense wie se drome deur die oorlog geraak gaan word.

In Italië, op ’n klein dorpie, bly die beeldhouer Guiseppe Romanelli en sy seuns, asook Don Veneto en sy mooi dogter Gina. Gina en Antonio, een van die seuns van Guiseppi, is verloof.

Antonio gaan oorlog toe en beland as krygsgevangene op die Fouries se plaas waar hy klipwerk moet doen. Hy en Klara ontmoet en hulle word vriende. Christine en Gerbrand ontmoet mekaar in Egipte. Met Antonio op die plaas het dit ’n invloed op almal, maar veral Klara se siening van die vyand, die oorlog en die plaas.

Adéle Dempers skryf in Volksblad dat Anderkant Pontenilo in wese ’n liefdesverhaal is wat verryk word met interessante brokkies oor die geskiedenis van die jare veertig. “Joubert se verteltrant is lekker vinnig, die spanningslyn word van die begin af gehandhaaf met die draadloos en koerante wat kort-kort nuus (toenemend ontstellend) oor die oorlog in huise in bring.” Dit is ’n lekkerleesboek wat jy net nie kan neersit nie.

Vir Ilza Roggeband (Die Burger, Junie 2009 presiese datum onbekend) was die boek plek-plek interessant en ’n mens wil dit klaar lees, maar die storie sou gebaat het by nog ’n bietjie skaafwerk.

Anderkant Pontenilo is die eerste van ’n trilogie en die vervolg verskyn in 2010 en is getiteld Pérsomi, kind van die brakrant. Hierin neem Irma haar lesers terug na die jare tussen 1940 en die 1960’s.  Oor Pérsomi vertel Irma aan M Malan in Die Burger (6 Desember 2010): “In Pérsomi is daar drie storielyne. Daar is die kwessie van die armblanke, ’n liefdesverhaal wat die suikerlagie om die ­politiek en geskiedenis is en die begin van apartheid. Ek ­konsentreer veral op die ­situasie van die Indiërs in Noord-Transvaal. Hul moedertaal was Afrikaans en dié wat ek geken het, het hul grond van Paul Kruger gekry, maar hulle moes trek. Die Afrikaans­sprekende Indiërs se storie is nooit regtig vertel nie.”

Die hoofkarakter het al in Pontenilo haar opwagting gemaak toe sy as bywonersdogter ’n klein rolletjie gespeel het.  Hierdie keer word die verhaal uit die gesigspunt van Pérsomi en haar familie vertel. Vroeg in die boek vertel Irma van haar nuwe karakter: “Pérsomi weet presies wie sy is: sy is ’n bywonerskind, die vierde kind van Lewies en Jemima Pieterse op mister Fourie se plaas. Sy is ’n lang, maer kind, met donker oë en reguit, donker hare. So anders as Sussie en Piet, wat hulle pa se kort, plomp figuur en waterige klein ogies geërf het. Of Gertjie of Babie met hulle ma se kroeserige rooi hare. Hannapat is ’n goeie mengsel van die twee. Selfs Gerbrand het hulle ma se rooi hare gekry . Net sy lyk anders . . .” (bl 13).”

Adéle Dempers skryf in Volksblad (18 Desember 2010): “As intelligente kind kry Pérsomi swaar in die haglike omstandighede waarin sy grootword. Gerbrand is haar ouboet, die enigste een tot wie sy aangetrokke voel, maar is afsydig, dikwels ongeduldig, en dan word hy ook nog ’n Rooilussie, verag deur baie. Hoe verstaan sy dit? Toe hy in Noord-Afrika sneuwel, troos Boelie Fourie die ontredderde meisietjie. ’n Sterk band ontwikkel tussen haar en Boelie wat verinnig soos hulle ouer word. Verskeie faktore hou hulle egter uitmekaar; Pér­somi is immers ’n bywonerskind afhanklik van aalmoese terwyl Boelie mister Fourie se seun is. Soos hulle ouer word, het hulle ook sterk, botsende menings. (...)

“Pérsomi het ’n sterk wil om uit te styg en word ’n prokureur wat haar op haar Bosveldse tuisdorp vestig. Wanneer sy die Indiër-gemeenskap, mense wat vir haar net goed was, se gedwonge verskuiwing in die hof beveg, bring dit haar in verdere konflik met die gemeenskap en veral met Boelie, ’n vurige Nasionalis.”

Pérsomi is nie vir Dempers net ’n opeennoeming van geskiedkundige feite nie, maar ’n lewendige en realistiese uitbeelding van die tyd waarin die verhaal afspeel. Die leser leer ken die omstandighede van armblanke-gesinne deur die beskrywing van die Pieterse-gesin. Jemima, die moeder, is moeg vir die lewe, terwyl Pérsomi aan die ander kant die persoon wat die wil het om bo hulle omstandighede uit te styg, verpersoonlik. Joubert se karakters is werklik, die taalgebruik en dialoog is gemaklik en deur die agtergrond leer ken die leser die geskiedenis van Suid-Afrika van daardie tyd en hoekom mense sekere keuses gemaak is. “Daarby is dit ’n heerlike storie. Pérsomi is die soort boek wat jy met moeite neersit,” aldus Dempers.

In Beeld (25 Oktober 2010) skryf Ronel Nel as volg oor Pérsomi: “Joubert, ’n bobaas-storieverteller, verstom die leser weer eens met haar diepgaande navorsing, en die manier waarop sy ’n verweefde en ingewikkelde geskiedenis verlewendig deur die taal en handelswyses van haar karakters. ’n Mens proe eintlik die angs, die woede, die verwarring en die vrees van daardie ongewone dekades – die 1940’s en 1950’s.”

Vir Cas van Rensburg (Rapport, 29 Desember 2010) staan dit uit dat die skrywer ’n baie goeie agtergrond en kennis van die tydperk van die roman het “en wat die roman laat slaag, is dat sy juis nie hierdie stuk Afrikanergeskiedenis rou in die leser se gesig gooi nie. Dit is subtiel verweef met die daaglikse bestaan van haar karakters wat in ’n tydvak leef waar hul lewensuitkyk noodwendig beïnvloed is deur die politieke woelinge in eie lands-, dorps- en familiegeledere.”

’n Belangrike deel van die storie is Pérsomi se verdediging van die Indiërs se gedwonge verskuiwing en vir Van Rensburg het dit geruk om hierdie storie as deel van ’n liefdesverhaal teen te kom. Maar “dit gee ’n heeltemal ander perspektief as blote geskiedenis en plaas jou midde-in daardie tyd met ’n vars besef van ongeregtighede wat in die naam van apartheid gepleeg is,” skryf Van Rensburg.

“Wat die trefkrag van die verhaal ook versterk, is die feit dat die skrywer ’n aanvoeling vir taal het en ’n soort ‘skoon’ prosa skryf. Haar karakters word eweneens nes die geskiedenis­agtergrond subtiel uitgebeeld met veral ’n opvallende oor vir dialoog. Trouens, dit het ’n mens by die lees van die roman dikwels laat wonder of die skrywer nie haar hand aan ’n drama moet waag nie.

“Wat die roman ook beklemtoon, is dat ons ons stories moet vertel, anders sal dit later óf vergeet word óf deur ander vertolkings verswelg word. Hoeveel lesers van 50 en jonger onthou byvoorbeeld nog die dae van bywoners? Of die armblanke-vraagstuk en die Carnegie-verslag van die 1930’s?

“Dit is natuurlik nie ’n werk wat met byvoorbeeld ’n Marlene van Niekerk se Triomf vergelyk kan word nie, maar miskien is dit net so ’n belangrike werk in die kringe van diegene wat nie lesers van hoge letterkunde is nie. En dit is hierdie lesers van goed geskrewe en toeganklike romans wat uiteindelik Afrikaans as ’n skrywerstaal sal laat voortbestaan.”

Die derde boek in Irma se trilogie is Kronkelpad wat in 2011 verskyn. Die hoofkarakters hierdie keer is Lettie Louw en Marco Romanelli. Dié twee was in Pontenilo en Pérsomi ook op die toneel maar as minder belangrike karakters. Hulle is in Kronkelpad die hoofkarakters waaroor Irma Joubert drie verhaallyne skep wat oor etlike dekades heengaan. Die agtergrond vir Kronkelpad  is die polio-epidemie wat in die 1950’s plaasgevind het. In Beeld (7 November 2011) skryf Adéle Dempers dat die effek daarvan op die jongmense van daardie tyd goed uitgebeeld word. Dit het ook vir Lettie op ’n persoonlike vlak beïnvloed.

Dempers skryf verder: “Soos sy voorgangers, is Kronkelpad ontspannende leesstof met die geskiedenis as stewige werklikheidsbarometer. Die karakters is warm en menslik. Veral by Lettie, ’n sterk vrou en nie die tipiese popmooi heldin van ’n liefdesverhaal nie, sal lesers aanklank vind. Kronkelpad bied ’n bevredigende slot vir die trilogie. As bonus eindig dit waar Pontenilo begin het – in die Italiaanse bergdorpie waar die mense so van mooi stories hou.”

Alta Cloete skryf op WordPress (4 November 2011) dat Irma Joubert weet hoe om ’n roman met geskiedkundige agtergrond aanmekaar te sit en die storie met sorg en detail te vertel.

Benewens die polio-epidemie het Kronkelpad ook die eeufeesvieringe van die Groot Trek in 1938 as agtergrond, asook die Tweede Wêreldoorlog en die Joodse vervolging in Italië.

In Rapport van 11 Februarie 2011 skryf Nini Bennett: “Rialien Naudé, ‘n  geskiedenisstudent, nader dr Lettie Louw om hulp met  ’n geskiedenistaak. Dié Bosveldse dokter se gedagtes loop ver terug, en dien as stimulus vir die roman:  ’n verhaal vind neerslag in die vorm van ’n gedetailleerde vertelling, ’n lywige werk van 478 bladsye. Rialien figureer as katalisator vir die verhaal, en is nie ’n rolspeler nie.”

Lettie Louw, wat haar pa se mediese praktyk oorneem, was nog nooit die gewildste en aantreklikste meisie op die dorp nie. As gevolg daarvan het sy die besluit geneem om haar  beroep dokter te maak. Maar net totdat sy vir Marco Romanelli, ’n Italianer wat die konsentrasiekampe van die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, ontmoet. Omdat sy gesondheid nie so goed is nie, het hy na die Bosveld gekom om te kom aansterk.

Lettie word mooier soos sy ouer word en Marco se herinneringe aan Rachel en die kamp in Birkenau begin effe op die agtergrond skuif. Maar met die uitbreek van die polio-epidemie met sy gevolge wat tot in die Bosveldse dorpie gevoel word, lei dit die karakters op ander paaie voordat die trilogie eindig waar dit begin het – in die Italiaanse dorpie in die Alpe.

Bennett sluit haar resensie af: “Joubert skryf met gesag oor die leefwêrelde van haar karakters. Historiese feite word met gemak vervleg in die verhaallyn, sonder om steurend of pedanties te wees. Die outydse sjarme in Kronkelpad is verfrissend. Dit is tegerlykertyd ’n aangrypende roman, en uiters toeganklik geskryf. ‘Ware liefdesverhale het geen einde nie’ (p 343), gebaseer op ’n siening van Richard Bach, dien as kompas in dié kronkelpad-verhaal. ’n Verhaal wat die leser býbly.”

Vir Madri Victor (LitNet) kon die storie al vroeër geëindig het, “Maar toegegee, die meeste aanhangers van Irma Joubert sal waarskynlik teleurgesteld wees met my voorstelle; Joubert se historiese romans fokus op verhoudings, veral liefdesverhoudings, en bied vir die leser nie net ’n kykie in die verlede nie, maar ook ’n gelukkige einde waarin die liefde blom. En dit doen Kronkelpad met groot sukses. Joubert trek met hierdie verhaal al die los drade van die trilogie se karakters bymekaar. Soos Lettie se ma voorspel: hier kry elke pot sy deksel – ten spyte van die kronkelpaaie waarop die leser saamstap.”   

Voordat Irma haar ander trilogie, wat begin is met Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies, voltooi het, is daar eers ’n bundel kortverhale van haar uitgegee onder die titel Tuiskoms: stories oor die liefde (Tafelberg, 2012). Hierdie is almal stories wat voorheen in tydskrifte verskyn het en Irma se gunsteling storie is “Onze Nest” een wat handel oor twee swaeltjies wat verlief raak. Dit is in Landbouweekblad gepubliseer omdat nie een ander tydskrif ’n storie oor diere wou publiseer nie.

Die 16 verhale het almal tussen 2004 en 2011 in Huisgenoot, Rooi Rose en Landbouweekblad verskyn.

In sy resensie skryf Stoffel Cilliers (Rapport, 3 Julie 2011): “Die verskyning van Joubert se bundel herinner opnuut aan die sterk vormende invloed wat tydskrifte deur die jare op die Afrikaanse literatuur gehad het. Audrey Blignault, Alba Bouwer, P. H. Nortje en verskeie skrywers ná hulle se gewilde bundels is deur tydskrifbydraes voorafgegaan. Nou kry Joubert se talle aanhangers die geleentheid om haar bundel te beproef. Dat die verhale oor die algemeen goeie waardes bevorder; ’n humoristiese, vrolike aanslag het, maar ook ongelyk in gehalte is, word gou duidelik. Besluit maar self oor watter stories jou tone wil krul en watter nie.”

Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies is in 2013 heruitgegee deur LAPA net voordat die finale boek van hierdie trilogie, Tolbos, verskyn het.

Die handeling in Tolbos geskied tussen Junie 1976 tot einde 1989 en in hierdie periode skilder Irma Joubert weer vir haar lesers ’n familieverhaal wat die leser vasgenael sal laat sit en lees.

Toe Irma aanvanklik Ver wink die Suiderkruis begin skryf het, het sy dit glad nie bedoel as boek een van ’n trilogie nie. Dit is dan ook aanvanklik deur Romanza vir LAPA gepubliseer. Selfs nie eers toe sy begin skryf het aan Tussen stasies het sy aan die moontlikheid gedink nie. Maar toe sy vir Gretl Suid-Afrika toe moes laat kom en vir haar ’n Suid-Afrikaanse familie moes kry, het sy begin dink aan die moontlikheid om haar by Bernard en Kate Neethling in die Bosveld te gaan laat bly. Met die publikasie van Tussen stasies is daar besluit omSuiderkruis bietjie uit te brei en dit was op aandrang van die lesers dat Tolbos geskryf is en die trilogie voltooi is, vertel Irma aan Phyllis Green van Sarie (12 Desember 2013).

Tolbos speel gedeeltelik in Suid-Afrika en gedeeltelik in Pole af en dan die laaste stuk weer in Suid-Afrika. Phyllis Green wou by Irma weet of sy bewustelik weer ’n skakel terug gemaak het na Pole, omdat Gretl in Tussen stasies daarvandaan gekom het.

Vir Irma was dit deels die rede, maar daar was sulke baie ooreenstemmings tussen die val van kommunisme in Pole en die einde van apartheid in Suid-Afrika dat sy verstom geslaan was. Die opstande in Soweto wat op 16 Junie 1976 plaasgevind het en wat begin het as ’n vreedsame optog en ’n bloedbad as afloop gehad het, was vir Irma die begin van die einde van apartheid. Op 25 Junie 1976 was daar ook ’n vreedsame betoging teen die kommunistiese bestel in Pole en dit het ook uitgeloop op ’n bloedbad en die begin van die einde van kommunisme.

En toe op 9 November 1989 word die Berlynmuur en ander grense tussen Oos- en Wes-Duitsland afgebreek en net ’n paar weke later, op 11 Februarie 1990, is Nelson Mandela na 27 jaar uit die tronk vrygelaat en was hy ’n vry man. Daar was vir Irma ook nog ander ooreenkomste en dit alles saamgegooi, het vir haar gevra om ’n storie te vertel.

Irma het ook aan Reza van Rooyen (Die Burger, 1 Desember 2013) gesê dat die 1980’s totaal by haar verbygegaan het aangesien sy haar kinders moes grootmaak. Dit was een van die redes hoekom sy Tolbos geskryf het en dit was uit haar oogpunt ’n fassinerende tyd in die geskiedenis.

Irma het ook in Tolbos gebruik gemaak van regte mense as karakters om die gebeure nog meer geloofwaardig te maak. Só maak Helen Zille en Max du Preez hulle opwagting in die storie. “Katrien Neethling, die vroulike hoofkarakter in die boek, gaan studeer joer­nalistiek en dit is waar Zille in die prentjie kom,” sê Irma Joubert aan Rudolf Stehle (Die Burger, 11 Desember 2013).

“Zille gaan praat met die ­studente aan Wits oor ondersoekende joernalistiek, spesifiek met verwysing na haar oopkrap van die dood van ­Steve Biko. Sy praat ook met die studente oor haar betrokkenheid by die Black Sash en Katrien sluit dan as jong Afrikaanse meisie by die Black Sash aan. Ek moet natuurlik geweldig versigtig wees wat ek vir Helen Zille in daardie tyd laat doen omdat sy ’n bekende ­persoon is,” sê Joubert aan Stehle. “Zille in dié boek is nié die ­politikus nie, maar ’n joernalis en lid van die Black Sash in die 1980’s.”

Ander bekendes, behalwe Zille en Du Preez, in Tolbos is die musikante Bernoldus Niemand, André Letoit, (Koos Kombuis) en Johannes Kerkorrel. Irma het haar streng by die historiese feite gehou toe sy hierdie karakters deel van haar storie gemaak het.

“Wanneer Katrien by Beeld te ver gaan met haar liberale ­verslaggewing, is sy haar werk kwyt en klop sy aan by Vrye Weekblad waar Du Preez die redakteur is. Hy bied haar dan die geleentheid om as vryskut so nou en dan ietsie vir hulle te skryf,” vertel Irma verder aan Stehle.

Sentraal in Tolbos staan Katrien wat as tienjarige dogter hoor van die onluste in Soweto en terselfdertyd word die vyftienjarige Poolse tiener Jakób Kowalski deel van die betoging teen kommunisme in Pole. Hierdie twee oënskynlike totaal aparte gebeure bied dan die agtergrond vir hierdie roman.

Alta Cloete skryf in haar resensie as volg (Maandblad Zuidafrika): “Vir hierdie leser lê die grootste bekoring van Joubert se werk egter nie in die geskiedkundige feite nie, maar in die mense daaragter. Joubert slaag daarin om die geskiedenis lewend te maak met volronde, oortuigende en aangrypende karakters met net die regte tikkie romantiek en humor daarby. Een van haar grootste bates is haar vermoë om in die skoene van ʼn kind te klim. Die vyftienjarige Wladek Kowalski wat die leser aan die begin van Tolbos leer ken, is ʼn heerlike karakter. Vol hormone, vol selfvertroue, met ʼn aansteeklike lewensdrif en skerp humorsin pak hy elke uitdaging wat die lewe vir hom gooi met kenmerkende entoesiasme aan. Katrien Neethling, aan die ander kant, is ʼn eensame buitestaander, maar tog – dikwels teensinnig – deel van die uitgebreide familie waarin sy grootword en moet ʼn lang pad loop voor sy met haarself kan vrede maak.

“Die tema van familie loop soos ʼn goue draad deur die verhaal. Die verskil tussen die eenvoudige leefwyse in Pole teenoor die relatief luukse – maar tog sobere – bestaan van die Neethlings in Suid-Afrika is opvallend. Die ooreenkomste in die familiestrukture en die soms teensinnige verbondenheid word egter telkens voorop gestel en kom veral na vore in die treffende beskrywings van die Kersfeesvieringe van elke familie.

“Telkens keer Wladek terug na sy mense en probeer hulle teen die gevolge van sy politieke betrokkenheid beskerm. Ten spyte van sy ooglopende briljantheid bly hy diep verbonde aan sy doodgewone, liefdevolle familie wat onder die moeilikste omstandighede die beste probeer maak van hulle lewens. Katrien is veral gedurende haar tienerjare in opstand teen haar familie, maar in haar diepste nood is dit hulle wat haar onvoorwaardelik te hulp snel en mettertyd aanvaar sy haar verbondenheid aan haar mense. Die verlies van familie word dan ook deur albei karakters as besonder traumaties ervaar en was vir hierdie leser van die aangrypendste dele in die boek. Die dogtertjie Katrien se onherstelbare verlies en die manier waarop dit haar status as buitestaander inisieer, bepaal die verloop van haar lewe en vorm haar karakter tot ʼn groot mate. Wladek se ontreddering wanneer hy sy familie moet verlaat, is eenvoudig aangrypend en toon die ander kant van sy speelse, op die oog af soms ligsinnige, karakter.

“Die ontwikkeling van die liefdesverhouding en die innerlike groei wat dit op die ou end moontlik maak, word subtiel en oortuigend uitgebeeld. Geen maklike oplossings word aangebied nie en die keuses wat die karakters maak, is volkome realisties.

“Joubert se skryfstyl is sober, sonder tierlantyntjies. Sy slaag telkens daarin om treffende tonele met min woorde te teken. Die groot getal karakters word elkeen as uniek geskilder. Dit is egter die oënskynlik sorgvrye Wladek en die opstandige Katrien wat die diepste in die leser se hart kruip, soos dit geslaagde hoofkarakters betaam.”

Elsabé du Toit skryf in Die Burger (30 Desember 2013) dat Tolbos in die eerste plek ’n liefdesverhaal is, maar as gevolg van die geskiedkundige agtergrond van die verhaal, is dit nie net ’n tipiese resepmatige verhaaltjie nie. "Die verhale van Irma Joubert word wyd gelees en hierdie een is dalk haar beste tot dusver."

In ’n onderhoud met Carla van der Spuy op LitNet is Irma egter van mening dat sy nie Tolbos primêr as ’n liefdesverhaal sou beskryf nie, aangesien die liefdesverhaal spesifieke vereistes aan die skrywer stel, waaraan Tolbos nie voldoen nie. Sy sê: "Tolbos is ’n historiese roman waarin die liefde wel ’n groot rol speel, hoofsaaklik omdat die liefde vir my deel van die lewe self is."

Ook op LitNet het Leswin Laubscher, medeprofessor en voorsitter van die Departement Sielkunde aan die Duquesne Universiteit in Pittsburgh in Amerika, oor Tolbos die volgende geskryf: "Katrien  protesteer en durf die swart woonbuurte aan met die aunties van die Black Sash (’n aksie wat nie baie geloofwaardig is nie, bygesê). (...) Maar mens het meer as interessante geskiedenisfeite of spookagtige ooreenkomste tussen Pole en Suid-Afrika nodig om ’n roman te laat werk.”

Hy gee egter toe: “Dit is wel waar dat die Suid-Afrikaanse hoofkarakter, Katrien en haar Poolse eweknie, Wladek, ’n storieverbintenis het, een wat Joubert uitlê in die twee boeke wat Tolbos voorafgaan as trilogie, te wete Tussen Stasies en Ver wink die Suiderkruis. (...) Op die ou einde is Tolbos miskien meer romanse as roman, en die ‘nuwe’ van die parallelle Poolse storie meer die persoonlike bevrediging van ’n skrywer wat ‘lief is vir geskiedenis’, as ’n vernuwende literêre instrument om kuns mee te maak.”

Na aanleiding van bogenoemde wou Carla by Irma weet: "Maar wat van die 'bottom line' – lesers se terugvoer? Wat was die terugvoer wat jy tot dusver persoonlik gekry het? Kan mens nie maar net ’n roman, of ’n historiese roman, of wat dit ook al genoem word, net vir die lekkerte lees sonder om dit eindeloos te ontleed nie?"

Irma se antwoord is as volg: "Leswin Laubscher het vir my ’n interessante perspektief uitgespreek. Ek kan hom eerstens verseker dat daar wel 'wit tannies' – hoofsaaklik van die Black Sash – by van die begrafnisse in Soweto was en dat die begrafnisgangers beslis ons bekende Halleluja-liedere gesing het, maar in hulle eie taal. Albei hierdie feite is histories korrek – ’n mens kan dit in geskrewe verslae van die Black Sash lees, en van die 'wit tannies' wat daar was, kan uit eie ervaring vertel.

"Tweedens kan ek hom verseker dat Tolbos geensins voldoen aan die vereistes wat uitgewers stel vir ’n 'romanse' nie. My eerste twee boeke, Vonkpos vir die hart en ’n Beskermengel vir Marlene, is uitgegee as 'romanse'. Dit is ’n genre met uiters vaste reëls wat van die skrywer baie dissipline verwag om binne hierdie grense te bly. Dit is, terloops, ook ’n genre wat wêreldwyd uiters gewild is, wat lesers aan die lees hou en dikwels uitgewers se koppe bo water hou.

"Ek glo verder elkeen is absoluut geregtig op ’n eie mening oor enige boek; so ook elke resensent. Indien stellings in byvoorbeeld ’n historiese roman foutief is, is dit ook enigeen se goeie reg om dit uit te wys. Mens moet egter seker maak van jou eie feite voordat jy dit begin bevraagteken.

"Ten slotte maak dit nie veel saak in watter kategorie die boek geklassifiseer word nie. Ek skryf vir die lekker; ek glo vir geen oomblik ek is ’n woordkunstenaar soos byvoorbeeld Karel Schoeman nie. As iemand van my boek hou, is ek bly. As mense nie daarvan hou nie, is dit ook doodreg – ek self hou beslis nie van alles wat ek lees nie, selfs al word dit soms sterk aanbeveel. Hoe vervelend sou die lewe nie gewees het as almal van dieselfde goed gehou het nie."

Leswin Laubscher skryf verder: "Ek betwyfel nie dat Voëlvry ’n rol te speel gehad het in apartheid se verbrokkeling en nederlaag nie, maar om seks oor die kleurgrens en diep teue aan tallose stoppe dagga voor te hou as aktivisme en opoffering, beledig diegene van ons wat gemartel was, in hegtenis geneem was, vriende en familie verloor het, en die trauma van ’n alledaagse geweld op ons stoepe moes verduur."

Van der Spuy wou by Irma weet wat sy van bogenoemde stelling dink en of mense seks oor die kleurgrens gehad het as ’n vorm van protes. Kon dit nie dalk gewees het omdat hulle verlief was nie?

"Lesers van die boek kom uit verskillende omstandighede en agtergronde, daarom kan ’n mens nie sê hierdie stelling is vergesog nie. Ek het dit geskryf uit ’n spesifieke perspektief – die een van my hoofkarakter, Katrien, wat uit ’n konserwatiewe Bosveldse boerehuis gekom het en hoofsaaklik as gevolg van wat sy oor die radio gehoor en in die letterkunde gelees het, oor die landsituasie begin wonder het. Sy is nie gemartel nie; sy het nie familie of vriende verloor nie (nie eens, soos baie gesinne rondom haar, weens die grensoorlog nie); sy het nie die daaglikse geweld beleef nie; maar sy het op haar eie manier ook deur ’n sielestryd gegaan. En soos vir baie wit Afrikaanssprekende jongmense van daardie tyd was die Voëlvry-beweging vir haar bevrydend – iets wat mense wat nie uit dieselfde huise as sy gekom het nie, moontlik nie sal verstaan nie. Hierdie verhaal sluit mos nou nie ander belewenisse van daardie tyd uit nie; selfs mense wat uit dieselfde agtergrond as sy gekom het, kon dit totaal anders beleef het. Hierdie is net een soort belewenis van wat in die 1980’s gebeur het," was Irma se antwoord aan Van der Spuy.

Irma se volgende roman, Immer wes, is in 2015 deur LAPA gepubliseer. Voordat die boek in Suid-Afrika op die rakke was, was die Nederlandse en Duitse vertalings reeds klaar wat dui op Irma se gewildheid in die buiteland. ’n Bekendstellingstoer in Duitsland en ’n optrede by die Boekefees in Frankfurt was deel van die uitgewers se bemarkingstrategie.

Immer wes vertel die verhaal van Hildegard, ’n dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adel met ’n liefdelose ma en ’n pa wat wel oor die algemeen omgee.

"In 1914, toe die donker wolke wat oor Europa saamgetrek het, uiteindelik in die Groot Oorlog uitbreek, leer Hildegard vir die eerste keer hoe lelik die lewe daar buite is, hoe afskuwelik oorlog, en wat ’n misleidende woord 'oorlogshelde' is. Haar kinderlike verering van die Duitswester Gustav los op in die vlaktes van sy geliefde land waarheen hy terugkeer. Sy trou met ’n man – haar vader se keuse, as mens dit ’n keuse kan noem – wat min vreugde in haar lewe bring.

"Teen die tyd wat die Tweede Wêreldoorlog ten einde loop, is sy intiem vertroud met die pyn van verlies en onderdrukking, armoede en hongersnood, en meer as ooit haat en verag sy oorlog. Maar dit is nie die einde van die reis nie. Dit besef sy eers toe sy en haar kind hulle weens omstandighede waarvan niemand sou kon droom nie, in Duitswes bevind. Wat môre sal bring en waar sy en haar dogtertjie ’n heenkome sal vind, weet niemand. Soms weet sy nie of God haar nog hoor wanneer sy bid nie.

"Hierdie lekkerleesroman wat strek oor die twee Wêreldoorloë en uiteindelik, via Suid-Afrika, in Namibië eindig beloof om Irma Joubert se lesers weer weg te voer na lande en tye wat nie aan ons bekend is nie. Soos altyd is die styl maklik, maar soos soveel keer te vore, wys Joubert ook die donker kant van die mens. Oorlog is verskriklik. Gelukkig is daar altyd hoop in al Irma Joubert se romans.

"Immer wes is die eerste boek in haar nuwe trilogie. Al drie verhale het as kern die lyding van vroue en kinders. Joubert sê: 'Dit maak nie saak wie die vyand is nie, die vergrype teen die mens is dieselfde. Sodra honger oorneem, word die mens soos ’n dier.' " (Uitgewers se inligtingstuk)

Tydens die bekendstelling van Immer wes in Bloemfontein vertel Irma aan Elretha Britz (Volksblad, 26 November 2015) dat die storie losweg gegrond is op ’n ware verhaal wat sy by ene Rod Gribnitz gehoor het.

"Sy ma, het hy vertel, is in 1896 in Rusland gebore en was agt jaar oud toe die Russies-Japanse oorlog en die gepaardgaande Bolsjewistiese revolusie teen die tsaar uitgebreek het. Baie Baltiese adellikes is gevang en na Siberië verban. Rod se voorsate het met die hulp van ’n goedgesinde Joodse handelaar ontsnap. Só het hulle in Königsberg geland waar ook Hildegard ná hul vlug uit Rusland haar bevind het. Vrede was van korte duur, want hulle was skaars daar toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek.

"Hierna verloop Hildegard se verhaal anders as dié van Rod se ma. Wat wel ooreenstem, is dat derduisende Europeërs oor die jare verder wes moes vlug voor die kommuniste uit en in die proses telkens al hul aardse besittings verloor het."

Irma vertel aan Elretha Britz (Volksblad, 29 September 2015): "Die titel dui op Hildegard wat telkens in ’n westelike rigting vlug, van Rusland na Oos-Pruise, na Berlyn en uiteindelik na die destydse Duitswes."

Irma het al gesê: "Wat is ’n storie sonder ’n liefdeslyn om die grusaamhede van die oorlog verteerbaar te maak," en in Immer wes is dit ook so.

Irma het vir Immer wes deeglike navorsing in Duitsland gaan doen. In Berlyn het sy gaan loop in die gebied waar Hildegard gewoon het – "om ’n gevoel van die omgewing te kry en te sien hoe die huise lyk. ’n Vaart op die Spreerivier soos Hildegard en haar man dikwels onderneem het, was ook deel van haar verkenning.

"Die feit dat Hildegard nie ’n Nazi-aanhanger was nie en haar man wel, behoort ’n interessante teenstrydigheid vir Duitse lesers te wees."

Vir Irma was die skryf van Immer wes een van haar moeilikste dinge wat sy nog gedoen het – nie soseer vanweë die inhoud van die boek nie, maar as gevolg van persoonlike omstandighede, onder andere die dood van haar moeder. Groot dele van die boek is langs haar moeder se bed in die hospitaal geskryf.

Irma het ook al klaar die raamwerk van die volgende twee boeke in haar kop. Die trilogie word nie aanmekaar verbind deur die karakters nie, maar deur eenderse omstandighede. In Immer wes word vroue en kinders se lyding in die twee Wêreldoorloë in Duitsland uitgebeeld. Die tweede boek het Nederland as agtergrond en die derde een Brittanje.

Willie Burger was die resensent van Immer wes in Vrouekeur van 5 Februarie 2016. Volgens hom gaan dit ook in hierdie roman nie net slegs oor een liefdesverhouding nie, maar oor ingewikkelde verhoudings tussen mense wat gesitueer word teen die agtergrond van ’n verwarrende geskiedkundige gebeurtenis.

Burger gaan voort: "Immer wes lok die leser in ’n vreemde historiese werklikheid in deur die ervaring van ’n dogtertjie wat later ’n vrou word, uit haar eie beperkte begrip van die wêreld aan te bied. Terwyl die leser by haar emosionele wêreld van ’n afsydige ma, ’n afstandelike pa, ’n liefdevolle oppasser, ’n koue huweliksverhouding en haar ervaring van onderdrukking en hongersnood ingetrek word, word ook baie inligting oor die historiese gebeurtenisse gegee. Die leser ervaar as ’t ware die geskiedenis van 'binne'.

"Soos die karakters uit haar ander romans, word Hildegard se geloof in God ook beproef en sy vind uiteindelik rus en vrede ten spyte van die ontwrigtende gang van die geskiedenis. Dit is waarskynlik hierdie troos wat telkens in Joubert se romans teenwoordig is, wat verder tot die gewildheid daarvan bydra – selfs nog meer as die fyn besonderhede van die historiese gebeurtenisse (want vir die verskillende vertalings word die historiese gebeurtenisse blykbaar aangepas)."  

Behalwe enkele punte van kritiek soos dat daar ’n paar clichés in Immer wes voorkom en dat van die gebeure dalk té dramaties beskryf is, is Riette Rust (Rapport, 13 Desember 2015) ook baie positief oor die roman. "Al die los verhaaldrade word netjies saamgeknoop. Daar sal waarskynlik literati wees wat ’n gesofistikeerde slot sou verkies, maar dié roman is nie op hulle gemik nie. Immer wes is een van die beste leeservarings wat jy in ’n lang tyd sal hê. Gordel vas vir ’n emosiebelaaide rit deur oorlog."

In Volksblad (16 November 2015) is Karla Janse van Vuuren ook vol lof vir Immer wes: "Weer eens verf dié vaardige skrywer beelde met woorde en word die vernietigende loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog en Adolf Hitler se maniese tirades ’n werklikheid in jou hande. Die enigste teleurstelling is dat ek my nie nou al in die tweede boek van die trilogie kan verdiep nie."

Vir Elbie Adendorff was daar ook ’n paar punte van kritiek, soos die "mooi slot" en die paar geforseerdhede in die taal, maar ten spyte hiervan is Immer wes ’n verhaal wat beslis gelees kan word, "want dit verwoord nie net die verhaal van ’n vrou in oorloggeteisterde omstandighede nie, maar veral die verhaal van hoop en ’n toekoms uit die oorlog uit."

Die tweede deel van Irma se trilogie oor die swaarkry van kinders en  vroue in oorlogtyd, Mentje kind van Pas-Opkamp, is in 2017 gepubliseer. Hierdie verhaal speel in Nederland af. Sy was al goed aan die gang met Immer wes toe sy die eerste maal van die weggesteekte dorp in Nederland hoor. En dit was die impetus vir Mentje.

Hierdie "dorpie" wat eintlik net bestaan het uit ’n paar verskuilde hutte wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die bosse naby Nunspeet opgesit is, was die wegkruipplek van meestal Jode gedurende die oorlog.

’n Regsgeleerde, ene Von Baumhauer van Vierhouten, het die inisiatief geneem om hierdie skuilplek teen die Duitsers op te rig en "Oupa" DD Bakker en se vrou, "tante" Cor was sy helpers om die vlugtelinge daar te versteek. Ná ongeveer ’n jaar, in 1944, is die skuilplek deur Duitse soldate ontdek en is die "onderduikers" tereggestel. En dit is die punt waar Mentje se storie begin.

Irma het aan Elretha Britz vertel (Beeld, 22 November 2017) dat al die karakters in die eerste derde van Mentje geleef het en hul name, Han, Bart, Wim en Flora, was hul regte name: "Ek het hierdie inligting gevind in ’n boek waarin dié mense se beskrywings van gebeure in die versteekte dorp opgeteken was.

"Op ’n navorsingsbesoek aan Nederland het ek die jonger broer van dié vier betrokkenes, Hans, ontmoet en volgens hom is my weergawe presies soos hulle dit aan hom vertel het. Mentje se pa was een van dié wat gehelp het om die Jode daar te laat skuil, maar hy is ongelukkig gevang.

"Die tweede deel van die boek gaan oor die Slag van Arnhem, wat ’n absolute fiasko vir die Geallieerde magte was. Veldmaarskalk Bernard Montgomery het valskermsoldate agter die Duitse linies laat land waar meer as 10 000 uitgewis is. Ek het dié veldslag gekies omdat Suid-Afrikaners betrokke was en ek ’n Suid-Afrikaanse verbintenis wou inbring.

"Die derde en laaste deel speel in Suid-Afrika af. Daaroor wil ek nie nou iets sê nie. Dit is egter geen liefdesverhaal nie. Mentje is maar 13 jaar oud wanneer die boek eindig. Die derde roman in die trilogie sal die los drade van Immer wes en Mentje saamvat."

Hierdie tweede verhaal in die trilogie vertel die storie van Mentje, ’n Nederlandse dogter wat nadat haar pa verdwyn het, saam met ’n klompie Jode in ’n gedeeltelik ondergrondse kamp in ’n woud die Duitsers probeer ontvlug. Toe iemand hulle egter verraai, moes hulle vlug en só beland Mentje in Arnhem by familie. Die tante was onwillig om haar te huisves, maar aangesien dié so geknak is na die dood van haar man, is dit Mentje wat die rol van die ouer moet inneem.

In Arnhem raak Mentje betrokke by twee Suid-Afrikaners, Tinus en Andrew, wat sy versteek en verpleeg. Só beland sy in Suid-Afrika waar sy haar met Tinus as haar voog op hulle plaas bevind.

Trisa Hugo het Mentje vir Volksblad (4 Desember 2017) geresenseer en veral die menslikheid in oorlogsromans fassineer haar: "Veral waar die klein onskuldige kind, wie se lewe oorweldig en verander word deur die oorlog, ’n hoofkarakter is. Hierdie verhaal kan wat dít betref, sy skoene volstaan langs boeke soos onder andere The boy with the striped pajamas deur John Boyne, Little girl lost deur Barbie Probert-Wright en die plaaslike Wilhelmina: kampkind op Java van Mariël le Roux.

"Die skrywer slaag uitstekend daarin om ’n slim, dapper meisie se leefwêreld te verbeel. Die skrywerstem bly grootliks op die agtergrond, waar dit hoort. Die leser beleen Mentje se wêreld asof mens die kindjie ken. Navorsing en geskiedenisfeite is deurgaans uitstekend in die verhaal geïntegreer. (...)

"Tans is Joubert waarskynlik die gewildste plaaslike skrywer van historiese romans en met Mentje bewys se weer waarom. Die boek lees maklik, die feite is histories korrek en op só ’n manier in die boek ingevleg dat die grense tussen feite en fiksie vervaag. ’n Mens is die hele tyd bewus van die ongelooflike spanning van die oorlog, tot by die verrassende ontknoping. Dit laat ’n mens ook uitsien na die derde boek, wat belowe om te vertel wat uiteindelik van Mentje en Tinus word, en ook van Hildegard uit die eerste boek van die trilogie, Immer wes."

Irma se boeke wat in Nederlands vertaal is, is daar net so gewild soos die Afrikaanse boeke in Suid-Afrika. Dit was vir haar ’n baie groot verrassing toe die versoek gekom het dat hulle haar boeke in Nederlands wil vertaal. “Een van die redes is omdat die Nederlandse mark versadig is aan Amerikaanse fiksie. Boekhandelaars het die uitgewers gevra om met iets nuuts vorendag te kom,” vertel Irma aan Elretha Britz in Die Burger (26 Julie 2012).

“Dit is toe dat Corinne Vuijk van die uitgewer Mozaïek gereken het Tussen Stasies is ideaal om die gaping te vul. Sy het die Engelse sinopsis gelees – sy ken nie Afrikaans nie – en die boek na Dorienke gestuur, ’n vertaler met ’n besondere belangstelling in Afrikaans.”

En dit was dit. Binne 18 maande is vier van Irma se boeke vertaal. “Die vertalings is feitlik woord vir woord. Net ons idiome en streektaal-dialoog was vir Dorienke ’n probleem,” aan Elretha Britz.

Die romans is uitgegee met die mooiste omslae. Die tonele op die omslae sluit bymekaar aan – almal het ’n vrouefiguur op die buiteblad wat van agter gesien word.

Intussen was Irma in Mei 2012 in Nederland om haar boeke daar te gaan bemark. Die uitgewer Mozaïek het haar soontoe geneem en vir Irma was dit ’n ongelooflike klompie dae, vertel sy aan Britz. “Dit was die moegste wat ek ooit was – 10 dae van twee optredes per dag, sewe media-onderhoude, ’n video-opname vir YouTube, baie bederf-uitstappies en ’n melktert-‘verrassing’ op elke geleentheid. Maar dit was ook die opwindendste gebeurtenis in my professionele ­lewe. Toe ek skool gehou het, was atletiek teen die buurskool die hoogtepunt van ons jaar. Nou is ek as skrywer op ’n buitelandse toer geneem en ek het maar sewe jaar gelede begin skryf.”

Reuse-plakkate het haar begroet by die boekwinkels waar sy opgetree het. Haar romans het in die winkelvensters gepryk en groot getalle mense het die bekendstellings bygewoon. “Hulle het ’n leeskultuur wat ons nie hier ken nie.”

In  Augustus 2012 het die Vrouelandbou-unie van Mpumalanga (VLUM) Irma Joubert as hul skrywer van die jaar aangewys en vir Esra Bosch as die kunstenaar van die jaar. ’n Oorkonde is tydens die Malieveldstreek se winterstreekvergadering aan Joubert oorhandig.

In 2013 was Irma Joubert een van die finaliste vir die Bloemfonteiner van die Jaar. In 2014 het die Suid-Afrikaanse Biblioteekvereniging Anderkant Pontenilo aangewys as een van die gewildste boeke in 20 jaar in Suid-Afrika. Ook in 2014 het sy die Week van die Afrikaanse Roman saam met ander prominente Afrikaanse skrywers soos onder andere Marita van der Vyver en Etienne van Heerden in Nederland bygewoon. In November 2014 het sy ook ’n eerbewys van haar alma mater, die Universiteit van Pretoria ontvang, naamlik die Alumni se hoogste eerbewys, die TuksAlumni-Laureaat.

2014 was ’n goeie jaar vir Irma Joubert. Benewens al bogenoemde toekennings is sy ook in Nederland bekroon met die Publieksprijs Christelijk Boek 2014 in die kategorie vertaalde fiksie. In 2016 was Immer wes op die kortlys van die Nielsen-boekverkopersprys. Vandat die boek in November 2015 op die rakke verskyn het, moes LAPA dit binne twee maande herdruk. Immer wes is ook in 2016 benoem as ’n finalis vir Huisgenoot se Tempo-beeldjie in die kategorie Leesboek van die Jaar.

In sy Pérsomi-resensie sê Cas van Rensburg dis nie ’n werk wat byvoorbeeld met Marlene van Niekerk se Triomf vergelyk kan word nie, “maar miskien is dit net so ’n belangrike werk in die kringe van diegene wat nie lesers van hoge letterkunde is nie. En dit is hierdie lesers van goed geskrewe en toeganklike romans wat uiteindelik Afrikaans as ’n skrywerstaal sal laat voortbestaan.”

Irma se reaksie hierop: “Dis die beste opsomming van my werk wat ek nog gehoor het. Ek skryf nie hoge letterkunde nie. Ek lees dit wel, want dis my plig, en ek kan verstaan hoekom dit goed is – maar dis nie wat ek wil skryf nie. Ek wil eenvoudige, ware stories in lekker Afrikaans vertel.

“Ek sal seker nooit kontroversiële boeke skryf nie. Ja, daar is soveel omstredenheid in die wêreld, maar ek loop daarby verby. ’n Mooi storie, dis waarvoor ek lief is. As ons jonk is, droom ons van die wonderlike lewe wat ons gaan lei, die verskil wat ons gaan maak. Maar op die ou end word dit nooit waar nie, maar op ’n manier is ons almal tóg gelukkig. As my boeke eindig met: toe leef almal gelukkig saam, is dit nie storieboekgelukkig nie, maar waarheidgelukkig. Dis mos maar die lewe, is dit nie?” (Hanlie Retief in Rapport, 6 Februarie 2011)

Ook die Amerikaners is opgewonde oor die stukkie Suid-Afrikaanse goud wat hulle raakgeboor het. HarperCollins was nog nie eens klaar met die vertaling van Tussen stasies nie, toe vra hulle nog van haar boeke aan.

Die Nederlandse vertaling van Immer wes met die titel Hildegard is in 2016 binne twee weke nadat dit verskyn het, uitverkoop.

Tussen stasies heet in Engels The Girl From the Train en is in die VSA gekies deur die Target Book Club wat beteken dat die eerste oplaag aldaar ’n minimum van 40 000 is. Daar is ook beplan dat Tussen stasies in 2017 op rakke in Noorweegse boekwinkels beskikbaar sou wees.

The girl from the train was ook in 2016 een van die drie finaliste vir die Christy Awards wat die hoogste prys vir Christelike lektuur in Amerika is en sover Irma se uitgewers kon vasstel, is dit die eerste maal dat ’n vertaalde werk vir hierdie prys benoem is.

Tussen stasies is ook al in Duits vertaal en is ook daar ’n reuse-sukses. Dis reeds in ’n vierde druk, al is Das Mädchen Aus Dem Zug eers in 2014 uitgereik. Ver wink die Suiderkruis is ook intussen op Duitse winkelrakke te kry.

Oor haar skryfwyse vertel Irma in Maart 2017 tydens ’n optrede by die Woordfees as volg: “Ek is nie so kreatief dat die storie my lei nie. Geordenheid kom seker maar uit my onderwysdae. My wiskunde is nie so goed nie, so ek werk op 120 000 woorde met 12 hoofstukke van 10 000 woorde elk. Tipies Afrikaanse onderwyseres, begin ek met die bekendstelling en motoriese moment, verwikkeling, ontknoping, verwikkeling, ontknoping en so gaan dit aan. Dan werk ek van agter af terug: Die laaste hoofstuk is die oplossing, die tweede laaste die klimaks en die hoofstuk voor dít die krisis.”

Irma Joubert se resep vir die skryf van ’n roman:

  • Maak seker jy het ’n boeiende storie met ’n spanningslyn. Jy moet van die begin af weet hoe jou roman gaan eindig.
  • Ken jou karakters – ken elke faset van elke karakter.
  • Moenie die storie aan jou leser vertel nie – wys die storie aan jou leser. Laat die storie deur middel van "showing" gebeur.
  • Ken die ruimte waarin die storie afspeel en maak seker jy ken die omstandighede waarin die storie lewe kry. Doen navorsing!
  • Moenie mooi skryf nie. Skryf funksioneel. Skryf realisties. "Die oomblik wat die leser die eerste keer dink die toeval raak nou een te veel, verloor jou roman sy geloofwaardigheid."
  • Ken jou skryfreëls. Om spel- of taalfoute te maak, is eenvoudig nie ’n opsie nie. Belê in ordentlike woordeboeke en ander hulpmiddels soos die Skryf Afrikaans van A tot Z en die Afrikaanse woordelys en spelreëls. (Volksblad, 24 Augustus 2011)

Publikasies:

Publikasie

Vonkpos vir die hart

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334952 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Romanza

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

’n Beskermengel vir Marlene

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336017 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Romanza

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Verbode drif

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2009

ISBN

  • 0799336041 (sb)
  • 97807993343120 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ver wink die Suiderkruis

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2008
  • 2013
  • 2017

ISBN

  • 9780799337297 (sb)
  • 9780799343472 (sb)
  • 9780799364040 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands Het spoor van de liefde vertaal deur Dorienke de Vries 2011
  • Duits Und über uns die Sterne vertaal deur Thomas Weissenborn 2015

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tussen stasies

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2013
  • 2017

ISBN

  • 9780799338652 (sb)
  • 9780799364057 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands Het meisje uit de trein vertaal deur Dorienke de Vries 2011
  • Duits Das mädchen aus dem Zug  vertaal deur Thomas  Weissenborn 2014
  • Engels The girl from the train vertaal deur Elsa Silke 2015

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Veilige hawe (duet)

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343434 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Anderkant Pontenilo

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047018 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-prys vir Liefdesromans 2010

Vertalings

Nederlands Pontenilo vertaal deur Dorienke de Vries 2011

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pérsomi, kind van die brakrant

Publikasiedatum

2010

ISBN

 9780624049340 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands Kind van de rivier vertaal deur Dorienke de Vries 2011
  • Duits Hinter dem Orangenheim vertaal deur Thomas Weissenborn 2017

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kronkelpad

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053873 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands vertaal deur Dorienke de Vries 2011
  • Engels The crooked path vertaal deur Elsa Silke 2017

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tuiskoms: stories oor die liefde

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624052791 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tolbos

Publikasiedatum

  • 2013
  • 2014
  • 2017

ISBN

9780799364033 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Immer wes

Publikasiedatum

2015

ISBN

09780799376968 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands Hildegard vertaal deur Dorienke de Vries 2016
  • Duits Sehnsuchtsland vertaal deur Thomas Weissenborn 2016

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mentje, kind van Pas-Opkamp

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799385939 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

2018 ATKV-Woordveertjie vir liefdesromans

Vertalings

  • Nederlands Het meisje uit het verscholen dorp vertaal deur Dorienke de Vries 2017
  • Duits Das Kind aus dem versteckten Dorf 2018

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Artikels oor Irma Joubert beskikbaar op die internet

Artikels deur Irma Joubert beskikbaar op die internet:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Irma Joubert (1947–) appeared first on LitNet.

Dana Snyman (1963– )

$
0
0

Gebore en getoë

Dana Snyman is in 1963 in Stellenbosch gebore, die enigste kind van Coenraad en Sara Snyman. Sy pa was bykans dertig toe hy besluit het om op Stellenbosch vir predikant te gaan leer en het in ’n myn gewerk om vir sy teologiese studies te betaal.

Sy pa was predikant en Dana vertel in Rooi Rose van Maart 2007 aan Ilse Salzwedel: "My pa was een van daardie predikante wat byna altyd sy beroepe aanvaar het. Dus het ons min of meer elke drie jaar getrek: van Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika na Daniëlskuil in die Noord-Kaap. Toe Naboomspruit toe. Ons het ook op Skeerpoort naby die Hartbeespoortdam en in Johannesburg gewoon. Dis moeilik om te sê waar was dit vir my die lekkerste. Miskien Naboomspruit. Ek was 12 jaar oud, die eienaar van ’n Challenger-resiesfiets, en onskuldig, so salig onskuldig ... Maar dan onthou ek weer die puisies en die angs van adolessensie. En dan is ek nie meer so seker van Naboom nie."

Hy was ’n alleenkind wat in sy verbeelding geleef het. Hy het sy eie bende gehad – die Caprivi-bende, geskoei op kaptein Caprivi, die held van die fliek uit die sewentigerjare. Die bende het drie lede gehad, maar ongelukkig moes Dana al drie rolle vertolk, want hy het nie eintlik vriende gehad nie.

Sy eerste boek wat hy gelees het, was Die Kindjie in die krip. Hy het hom steeds in sy boekrak – ’n groot boek met mooi illustrasies wat die Kersverhaal uitbeeld. "Ek slaan dit steeds soms oop en kyk na daardie twee donkies langs die krip in die stal. Hulle is vir my die mooiste goed in die boek, daardie donkies. Ek is mal oor donkies."

Die eerste boek wat hom aangegryp het, is Die grys adelaar van CJ Groenewald. "Ek was dalk sewe. Dit gaan oor ’n ou wat kan vlieg, met behulp van seilvlerke en skoene met sulke vere onder. Ek het toe een middag ’n kar se coil springs onderaan my skoene probeer vasmaak en ’n sambreel in my hand gehou, maar nie opgestyg nie. Ek kon nie eens daai coil springs roer nie. Ek het my alie afgeval – en só ontdek stories kan ook gevaarlik wees."

Dana vertel aan Murray la Vita in Die Burger van 5 Mei 2007 dat hy van kleins af ’n voorliefde vir stories gehad het. Sy oupa was ’n groot storieverteller en daar was altyd stories in die huis. "My mense is gewone mense. Al twee my oupas was mechanics en goeters ... my pa was ’n passer-en-draaier wat vir predikant gaan swot het."

Hy verduidelik aan Rachelle Greeff in Rapport (3 November 2009): "Omdat ek maar ’n afgetrokke, halfbot leerling was, het niemand – ek ingesluit – besef ek het skryftalent nie. En tog, ek dink mev Van der Merwe en mev Deist, wat in st 9 en in matriek my Afrikaans-onderwysers was, het my liefde vir letterkunde aangevuur. Hulle het ’n mens laat besef letterkunde is nie net woorde-op-papier nie. Letterkunde is die gevolg van ’n gestoei met belangrike lewenskwessies. Mev Deist het selfs ’n bietjie Freud vir ons verduidelik: die ego, die superego en die id. Dit het my nogal gehelp om my eerste (van vele) liefdesteleurstellings te verwerk."

Dana vertel aan Rachelle Greeff in Rapport dat hy maar so half droomverlore gebore is. "Het op die ouderdom van vier al op my eie plaas in die noorde van die ou Suidwes geboer, met twee Boesman-hulpe. Puur verbeelding. Op 11 het ek gereeld vir die Springbokke uitgedraf, en op 14 het ek vir Anneline Kriel by Sol Kerzner afgevry. Ek vermoed party mense word gebore met ’n verhoogde bewussyn van dinge – binne en buite jouself. Dis ’n seën en ’n genade, soms ook ’n straf."

Dana matrikuleer in 1980 aan die Hoërskool Nylstroom.

Sy ma is in 1998 oorlede en sy pa het saam met Dana se stiefma, Amanda, op Ventersdorp gaan bly. Hy is in April 2011 op 77-jarige ouderdom in ’n Potchefstroomse hospitaal oorlede nadat hy ongesteld was.

Verdere studie en werk

Dana se eerste werk na skool was as veiligheidswag in Pretoria en die stad was op ’n stadium Dana se tuiste waar hy na dae en soms weke "op die pad sy voete moet kom plant". Hy vertel aan Jo-Ann Floris (Volksblad, 2 Mei 2005)dat die werk as sekuriteitswag baie vervelig was. Hy het meestal by ’n tafel gesit en skelm boeke gelees. "Ek het in elk geval die skietoefeninge ge-jippo, so ek sou nooit ’n goeie wag gewees het nie." Hy gaan maak ’n draai in die weermag en kry daarna werk in ’n boekwinkel.

Ook hier het verveling hom weggedryf, totdat hy in sy agterplaas ’n onwettige sjebien bedryf het: "Ek was die frontman by die bottelstoor en Sheila die baas by die sjebien. Dit het baie goed gewerk." Hy verkoop op ’n stadium kaartjies by die Sunnypark-bioskoop tot by Sterland-bioskoop waar hy bevorder is tot skakelbordoperateur. Dana lewer die volgende kommentaar oor hierdie tydperk in sy lewe: "Ek was onder meer ’n onparate veiligheidswag, ’n onwillige verkoper van fliekkaartjies en ’n ongeskikte skakelbordoperateur."

En tussen die oproepe en mense met mekaar verbind deur het hy besluit hy wil gaan joernalistiek studeer. "Ek het altyd gehou van koerant lees. Toe ek in die koshuis was [op Naboomspruit], het ek altyd een gekoop by die koerantverkoper. As ek nie geld gehad het nie, het ek hom betaal met beskuit of tjoklitkoek wat my ma gestuur het."

Hy gaan studeer aan die destydse Technikon Pretoria en gaan werk daarna vir twee maande by Die Laevelder. In 1990 word die goue Technikon-raadsmedalje aan Dana toegeken vir buitengewone prestasie op akademiese, kulturele en sportgebied. Hy begin as misdaadverslaggewer by Beeld in Pretoria werk. Jare later word hy artikelskrywer by Huisgenoot, waar hy vir 10 jaar werk, maar hy gaan voort om sy gewilde rubrieke vir Beeld se "Beeld-Deurloop" te skryf. In 2007 word hy as reisjoernalis by die reistydskrif Weg aangestel.

Dana geniet onmiddellike sukses as rubriekskrywer en die volgende logiese stap was dat sy rubrieke gebundel sou word. In 2005 word sy eerste boek, Uit die binneland, by Human & Rousseau gepubliseer en dit is dadelik ’n blitsverkoper. Die boek gaan uiteraard oor binnelanders, maar, sê Dana aan Gerrit Rautenbach, "binnelanders is mense wat êrens tussen stad en plaas besig is om te verdwaal op soek na iets op pad iewers heen." (Die Burger, 12 Mei 2005)

Oor hierdie debuutbundel skryf die kortverhaalkenner Abraham H de Vries in Beeld,2 Mei 2005: "Daar is goeie redes hoekom uitgewers gewoonlik langtand is om rubrieke te verduursaam in boeke. Die onderwerpe van rubrieke sluit gewoonlik aan by die nuus van die dag, en nuus het selde ’n lang lewe, die vormgewing dra soms die letsels van haastig skryf, die dreigende saktyd bevorder herhaling, al is dit ook net in woordgebruik en stelwyse.

"Maar daar is uitstekende redes waarom Human & Rousseau wel besluit het om Dana Snyman se Uit die binneland die eer van uitsondering te gun: In hierdie weliswaar ook ‘gewysigde weergawes’ van rubrieke in BeeldHuisgenoot en Weg is ’n skrywer aan die woord met ’n skerp oog vir detail, iemand wat weet hoe om taal optimaal te gebruik en hoe om met ’n paar woorde atmosfeer te skep.

"Die Afrikaanse mense wie se ‘binneland’ hier telkens vlugtig, suggestief verhaal word – want dié woord in die titel het 'n dubbele betekenis, dit is ook die binne-land, die innerlike van die figure wat aan bod is – is in die woorde van die Nederlandse skrywer Simon Carmiggelt 'n ‘stoet van dwerge’, gewone mense: oupas en oumas, ander gesinslede, boere, die teruggekeerde soldaat, inrykafee-gangers, TV-karakters, donkie kar-trekkers, ACVV-vroue, bedelaars by verkeersligte, elkeen geteken op die tydstip waarop ook die tydgees en die bekende gebeurtenisse wat hom/haar vorm, belangrik is: die Griek gevange in onluste en die kommunistejag van ongeveer 1976 (‘Andries Treurnicht Katagournas’), die Basters (wat hulleself so noem) en die woelinge om Afrikaner-wees (‘Mier’), ou Ben Basotho as slagoffer van die rigiede onderwyssisteem en seksuele vooroordele van 1969 (‘Wat seuns nie wil weet nie’) of kinders tussen Boeregrafte, Wimpy-kos en taalproblems (‘’n Meisie, vasgevang in die draaikolk van haar vergete verlede’)."

Vir De Vries is Uit die binneland ’n uitstekende debuut wat ’n wye leserskring verdien.

In 2006 verskyn Anderkant die scrap en hieroor laat De Vries (Beeld, 22 Oktober 2006) hom as volg uit: "Dis Hennie Aucamp wat in een van sy essays vertel met hoeveel sorg hy sy bundels ‘verpak’, van die titel en die buiteblad af wat die koper moet oorreed om dit aan te skaf, en wat ook die leser se eerste kennismaking is met die boek, tot die motto’s, die rangskikking van die verhale en die flapteks.

"Op die buiteblad van Dana Snyman se tweede bundel kortverhale, Anderkant die scrap, is ’n verroeste voertuigwrak, skroot dus, afvalmetaal. Uit die lees kom egter ’n ander beeld te voorskyn van hierdie verhale se bevolking. ’n Mens sou dit ook verwag van ’n skrywer wat al in Uit die binneland, sy debuut, bewys het dat hy met skaarse woorde ’n figuur, ’n ruimte, kan ‘staan maak’ en wat reliëf kan skep deur die bymekaarbring van die onheiligste teenstellings.

"Titel en voorblad skep ’n veels te eensydige verwagting vir so ’n bonte, klein-menslike, soms tragiese, plek-plek plesierige verskeidenheid. Die beskrywing op die agterblad van die figure as ‘weggesteekte mense’ met ’n ‘ontwykende droom wat nooit verbleik nie’ is nader aan die kol en sluit trouens aan by die slot van die titelverhaal met sy reis deur party van die figure in die boek se kamee-lewens: ‘Ons sal verby baie scrap ry. Ons sal ry. Tot ons die moontlikheid sien van geborgenheid wat soos lugspieëlings op die horison lê en bewe, sal ons ry.’

"Want om maar by die figure te bly: Snyman se verhaalbewoners is nie net hoewebewoners, verarmde families, figure uit ’n ou bestel, bad luck-bedelaars, ’n eens besige, nou verlate De Aar se bruin oorpakke en blou uniforms, en almal wat ’n dergelike lewe lei nie. In Snyman se beste verhale is daar ’n eietydse sosiaal-politieke dimensie.

"Daar is verhale waar die hele situasie ’n ‘simboliese’ méérwaarde kry: die man wat sy huis stuk vir stuk verkoop aan die mense van die township (‘Fred sien ’n plan’), Flip wat ’n ‘Pelgrimstog’ onderneem na die Apartheidsmuseum om homself te gaan soek op een van die foto’s (met weer eens ’n Poe-agtige slot, ’n enkele sin oor die emosies wat nié op so ’n foto verskyn nie).

"Die beste verhaal oor die ‘weggesteekte mense’ van ons geskiedenis waarvan die voete nie gewas word nie en teenoor wie die onreg nie eens herstel word nie, is ‘Skipskop’, gegrond op David Kramer se liedjie, met uitstekende gebruik van die vraag wat nooit genoeg gestel kan word nie: Wanneer hou die dinge op?

"’n Bonte verskeidenheid van weggesteekte dromers en ’n lappieskombers van sulke kleurvolle gebeure is nie scrap nie. Snyman se beste verhale (strenger keuring was moontlik) pas in ’n ander, minder veroordelende perspektief: dié van byvoorbeeld Simon Carmiggelt (Kronkel) se ‘stoet van dwergen’ in Nederlands, die mens, óns, in sakformaat, ’n wêreld in sandkorrels."

Op die agterpaaie word in 2008 gepubliseer. Ilse Salzwedel vertel dat Dana se woorde baie lag, bietjie huil, heelwat nostalgie, te veel onthou wek. "Hy ry die land plat op soek na stories en skilder woordprentjies van plekke waaroor ons droom, vertel met deernis van mense wat ons almal ken of wens ons het geken. Hy praat reguit, onthou ons land se mense soos ons was, vertel hoe ons nou is. Sonder skroom, maar sonder om aanstoot te gee, en hy skryf met ’n stewige skeut selfspot. Dana sien hom egter nie as ’n volksheld nie. 'Ek is maar ’n gewone ou wat oortrokke is by die bank en wie se kar nuwe bande moet kry'."

Ná die publikasie van Op die agterpaaie vra Karin Brynard (Rapport, 3 Desember 2008) Dana uit oor sy gunsteling-plek. "Sy blou oë het vlam gevat en hy het sy rug gemaklik gemaak sit vir ’n groot gesels. Sy tong het lang, slap drade gebrei Richtersveld toe, of na die onbekende paaie van die Karoo. Plekke met wonderwaardige mooi name en rare mense. Mense wie se kosbaarhede hy soos ’n delwer van ouds liefdevol uit die los gruis uit oopsif. En hy het met rollende erre en troetelsagte g’s vertel van die lang, ver paaie waar jy g’n lewende siel op sal teëkom nie – tot jy versigtig briek by ’n ou oom en tante wat een van hul laaste donkies aan ’t begrawe is. En dan hoor jy die storie van die Karoo se karretjiemense en hoe hulle een-een verdwyn. Hulle en hulle se donkietjies.

"Die soort kameë in ons gemeenskap waarvan groot rolprentmeesters soos Federico Fellini aangrypende rolprente sou maak. Die prentjies waarvoor die res van ons nie die oë het nie. Verhale wat byna wiegend – nes Dana se ou groot rooi Valiant op sy sawwe vere – uit die voue van vele godvergete hoekies van die padkaart uitkruie.

"Hy noem homself ’n storiesmous en hy gaan soek die dinge op waaroor ander net wonder, soos waar presies die Bosveld begin en ophou. Om die Bosveld te soek is ’n bietjie soos bekering. Op ’n kol wéét jy net jy het dit gekry. En dan, later, begin jy weer twyfel. Of waar presies is die Moordenaarskaroo? Hy ontmoet mense soos oom Fanie Pad, wat paaie gebou het in daardie kontreie en wat sy rug en knieë so opgefoeter het dat sy bene nou 'uit focus' is as hy stap. Saam ry hulle mooinaam-plekke soos Poffertjiesgat raak, of Knoffelfontein, Skelmhoogte, Dikboompies.

"Maar Dana ry nou nie meer met die Valiant nie: "Ek is bang mense dink ek wil aandag trek as ek met hom ry. En die reis is buitendien altyd belangriker as die ryding waarmee jy reis. Hy’t baie te sê oor die reisproses – soos dat dit jou verander. Dat dit jou oë oopmaak, jy regtig begin sien."

Dana is in 2008 in die Suid-Afrikaanse tydskrifwêreld bekroon as die Pica-wenner van Reisskrywer van die Jaar en hy het al vele ander akkolades en toekennings gekry. Maar hy hou nie op nie. "Ek lees ’n boek van Karel Schoeman oor die vroeë sendelinge in die land – veral van die sendingstasie by die Sakrivier in Fraserburg se omtes. Ek sal graag daardie murasies wil besoek. Ek wil ook nog gaan soek na die graf van Hendrik Witbooi, die ou Nama-kaptein. Niemand weet skynbaar waar hy begrawe is nie. Dit moet iewers in Namibië se suidelike ooptes wees," vertel hy aan Brynard.

Brynard vertel self verder in haar onderhoud: "Hy hou van grafte soek, lyk dit vir my. Hy beskryf sy soektog na Dirk Ligter se graf, die legendariese skaapdief van die Karoo oor wie daar meer legendes as waarhede bestaan. En jy kan aan die stories sien dis nie sommer vir in die kar klim en ry nie. Hy beplan. Lees, doen huiswerk. Die stories is deurspek van boeke en proefskrifte en ander geraadpleegde bronne. Hy lees wyd en haal ook gereeld sy eie geliefkoosde reisskrywers aan.

"Maar diegene wat die meeste aan die woord is, is die mense wat hy raakloop. Mense wat hy met respekte benader. Hy’s nie van die stadsadder-soort wat naweke soos bont sprinkane (in 4x4’s agter duur donkerbrille) ’n plattelandse plekkie invaar en rammetjie-uitnek ’n ou tannie se angeliere gaan staan en vertrap om ’n beter kamerahoek op haar sinkdakhuisie te kry nie.

"'Nee', sê Dana, 'die mens is die storie, die storie is die mens. Ek probeer so onopvallend moontlik wees. Miskien tel dit teen my, want soms is ek te skaam om by sekere mense aan te gaan wat baie kennis oor ’n bepaalde plek het. En ja, ek is maar ’n pleaser, ek skryf nie doelbewus dinge om te skok nie. Dis te maklik om so te skryf. Ek hoop daar is respek vir mense en die aarde in my stories'."

Abraham H de Vries het Op die toneel (2009) gekies as sy hoogtepunt uit 2009 se oes. Sy rede: "Dana is gewild, maar werklike erkenning bly weg weens ’n paar bekende wanopvattings: dat bundels kortverhale iets minder as romans en selfs soms digbundels is; dat ’n joernalis nie uitstekend verhale in ’n tydskrif kan publiseer nie; dat verhale oor die verlede dui op konserwatiewe verlede-verliefdheid; en dat goeie kortverhale nie ook lagwekkend mag wees nie. Ek kies Dana se bundel omdat die verhale deur die bank die werk is van ’n uitstekende vakman en van voor tot agter ruik na mens en na deernis (‘die wese van ons taak’ – Van Wyk Louw)."

In haar resensie oor Op die toneel skryf Joan Hambidge (Beeld, 9 November 2009): "Dit is waarskynlik onnodig om ’n boek van Dana Snyman te resenseer. Hy het reeds so ’n groot aanhang met sy stories wat op ’n onpretensieuse wyse die lot­gevalle van die gewone mens opvang. ‘Die mens is die storie, die storie is die mens,’ volstaan dié raconteur. Hy kyk na die eenvoudige mens sonder om hulle uit of af te lag en die agterflap praat tereg van die verhale as eerlik en eg.

"Toe [ek] hom in Beeld ontdek en daarna sy ontwikkeling meegemaak het, het ek ’n bietjie my hart vasgehou. Gedink die aandag, bekronings en loftuitinge gaan hom bederf. Inteendeel. Hy het sy vertel­linge al hoe sterker en meer vaartbelyn gemaak. In die nawoord gee die skrywer erkenning aan waar hy stories ­‘geleen’ en herskryf het. Twee titels is by onderskeidelik Chris Barnard en JC Steyn ­geskaai. En ja, waarskynlik moet ons dan ook besef van die verhale wat ons lees, is al iewers gehoor, gesien en opgeskryf.

"Die orale teks is allemansgoed. As iemand jou ’n storie vertel en jy skryf hom oor, is dit ’n ander ver­telling as die een wat jy gehoor het. Dit word verwerk deur die skrywer en kry sy eie stempel. Dis soos Boere-grappe wat permu­tasies beleef van grappe uit Ierland en elders.

"In ‘Groet’ kom die boeregroet onder die loep. En wat dit alles beteken. En ons lees van Oupa wat ‘taisis’ in die myn gekry het en een valstandlose nag in 1999 in die plaaslike hospitaal dood is. Kweek spartel steeds uit die tuinpaadjie en die gevoelige leser sien soms ’n digter aan die woord. Die vertellinge is nie essays nie. Hulle wil net stories wees en niks anders nie. Maar jy onthou hulle. Vir die humor, die skerp waar­neming, die ingeboude ironie en die lekkerte van lees aan hulle. (...)

"Dalk sou ’n mens Snyman ten beste kon opsom as ’n be­oefenaar van nostalgie en sy beskrywing van ’n nagmaalfees op Soebatsfontein kan as een van die sterkste voorbeelde daarvan gesien word. Hy beskryf alles met erbarming, terwyl hy homself as waarnemer en op­tekenaar daarstel – en juis daarom word die vertelling ’n skrynende verslag van rassisme én neer­buigendheid. Sonder om kommentaar te lewer, maak hy ’n Boere-oom na wat vra dat die ‘ou skepsel’ mooi moet kyk na alles. Hierdie vertelling word meer gelade wanneer dit saamgelees word met ‘Regstellende aksie’ en mense se kommentaar, van binne en buite, daarop.

"Dana Snyman is die optekenaar, ironies, sardonies. Hy skryf tyds­dokumente wat vir Jan en Alleman bedoel is. Alles word beskryf in helder, sober Afrikaans en wanneer hy Engels inspan, is dit met woorde soos ‘side­board’, wat sy plek in die volksmond gekry het. In ’n ver­haal word hy as ‘klein­dominee’ aangespreek en wanneer hy met sy pa gesels, is daar vergifnis en begrip. Snyman het ’n natuurlike talent. Maar deur hierdie uit-die-hart-uit-stories gee hy ’n nuwe lewe aan gemoedelike, lokale realisme waar­­op daar al neergesien is.

"Dalk doen hy met PG du Plessis wat PG met Mikro gedoen het? Hulle hou daardie vertellyn lewendig! Soos ’n plaastelefoon. ’n Mens mag nie die plek van Jaco Kirsten, Johann Bakkes en Dana Snyman in ons vertel-en-rubriek­kultuur onderskat nie."

Tydens die tweede Boekbedonnerd-fees in 2009 op Richmond in die Karoo moes Dana en sy nuwe vriend, Rian Malan, die afsluitingskonsert red toe die twee oorspronklike kunstenaars, Antoinette Pienaar en Kabous Verwoed, afwesig was. Rian Malan, joernalis en skrywer, het ook begin liedjies skryf en ’n CD opgeneem. En hy is toe gevra om die hoofnommer te wees met Dana aan sy sy, het Emile Joubert geskryf. (Rapport, 4 November 2009)

Joubert het self verder vertel: "Terwyl Dana, geklee in ’n Zam-Buk-salf-T-hemp, senuweeagtig rondsoek in die hoop dat Pienaar en Kabous nie dalk êrens wegkruip nie, is Rian ernstig aan’t repeteer in die Paleis se Private Lounge. Hy sit op ’n stoel en streel sy kitaar terwyl sy mond beweeg sonder dat daar eintlik ’n klank uitkom. Malan is bekend as ’n über koel dude, maar vanaand lyk hy bleek en senuagtig. En wie kan hom blameer? Net hy en Dana staan tussen ’n Karoo-gehoor se dors na vermaak en algehele teleurstelling.

"’n Senuweeagtige getrippel gaan niemand egter êrens bring nie. The show must go on. Dan roer iets. ’n Ou tannie met ’n blink Zimmer frame stamp mens, kind en dier uit die pad soos sy haarself haas vir die beste sitplek. Die gehoor kry sit. Die ligte verdof.

"Dana gaan haal ’n kroegstoel en neem sy plek in op die verhoog. Rian Malan, nou met ’n swart flaphoed op sy kop, maak ’n yskoue Kaapse draai voor die verhoog, tel sy kitaar op en skuif ook agter die mikrofoon in. Jy kan ’n gebraaide skaaptjop hoor val.

"En dan trek Rian los en laat waai, geesdriftig aan die speel aan die drie kitaarkoorde wat hy ken. Hy sing in Afrikaans, met ’n Engelse aksent wat deurslaan, maar die saak is reg. Daar is musiek, soort van, en sang, amper. Maar die wynglase is vol en die Karoo-nag is mooi, en die ryery na Richmond was die moeite werd. Dis immers ’n konsert. Tussen Rian se praat-sing deur word Dana se formida­bele talente as stemkunstenaar ingespan. Dana moet die verse afwissel deur soos ’n hond te blaf, iets wat hy, terloops, verstommend goed kan doen.

"Die organiseerders se gesamentlike sug van verligting is hoorbaar. Die gehoor glimlag. Ma’s sit hul hande op pa’s se sterk voorarms. Die tannie stamp haar Zimmer frame liggies op die maat van die musiek teen die vloer van die Grys Paleis. Dinge is aan die regkom.

"Rian sluit sy eerste liedjie op ’n hoë noot af en die kollig val op Dana. Hy herinner weer die gehoor dat hy nie weet wat hy hier doen nie, maar gelukkig ken hy ’n storie: Die een van die familie wat hike met hul karavaan. Ja, hulle woon in die karavaan, maar het nie ’n kar nie, nou ryloop hulle, naarstiglik aan die wag vir ’n kar met ’n sleepstang. Dit is baie snaaks, en Dana vertel dit in ’n droë en onaansitterige styl wat als nog meer treffend maak.

"Toe begin Rian se kitaar weer, en hy sing oor regstellende aksie en verwarde Afrikaners, en die gehoor is gaande, want êrens langs die pad leer Rian sommer ’n vierde akkoord by. En so tussen Rian se liedjies en Dana se stories gebeur die onwerklike: Die aangelapte konsert word ’n show: ’n regte show met mense wat handeklap en fluit. En terwyl die gehoor vra vir meer, kyk Rian en Dana ongelowig na mekaar. Van­­aand die Grys Paleis, môre die heelal."

Oor Hiervandaan: op reis in die geliefde land (2011) sê Dana aan Danie Marais (Die Burger, 7 November 2013) dat hy self deurmekaar raak oor die feit of sy boeke fiksie of niefiksie is. "Hiervandaan, wat ’n reis deur die land beskryf, was absoluut niefiksie – jy kan daai mense gaan ontmoet. Maar daai boek was op die Nielsen-verkoopsyferlys onder ‘fiksie’."

"Hiervandaan is ’n soort walkabout as ’n manier om my weer in voeling met my wortels te bring," vertel hy aan Madri Victor in Rapport van 4 November 2011. " Só lees ek een keer van ’n debat oor identiteit en ek besef ek wonder knaend waar ek inpas in die land, maar ek weet nie eens wie my voorsate werklik is nie. Hoe kan jy weet wie jy is as jy nie weet waar jy vandaan kom nie?"

"Ek begeef my toe na die Kaapse argief, waar ek ontdek die eerste Snyman was ’n bruin man. My oeroupagrootjie was by die Slag van Bloedrivier, het my pa altyd vertel, en dié se broek hang in ’n museum in Pietermaritzburg.

"Toe dink ek: Ons bruines het ook by Bloedrivier geveg, want jy moet onthou daardie Bloedrivier-oupa was maar drie geslagte van die bruin stamvader af. Later toe begin ek dink: Dalk moet ek gaan kyk of daardie oupa se broek regtig in die museum hang. En toe word dit ’n reis," vertel hy verder vir Madri Victor.

Victor skryf: "Dana se reis was nie net ’n verkenning van die land en sy emosies daaroor nie, maar ook van sy verhouding met sy pa. Oor albei skryf hy eerlik, intiem en aangrypend."

"My pa was ’n outsider, nes ek," vertel Dana. "Hy was ’n ambagsman, ’n passer-en-draaier. Toe, in sy dertigs, besluit hy om vir predikant te gaan studeer. Hy was eens die kapelaan-generaal van die AWB. Daardie tye was nie vir my lekker nie, en ja, ek was vies vir hom daaroor. Hier staan hy in ’n uniform in die koerant, met ’n Bybel onder die arm. Maar ons het altyd bly praat en ek het altyd maar weer teruggegaan huis toe, op Ventersdorp."

Vir Victor was Hiervandaan deels ’n "nostalgiese opskryf van vergange dinge soos boormanne en telefoonsentrales. Om dinge wat verbygaan op te skryf, is ’n vorm van liefdevolle bewaring. Dit erken hy. Maar die nostalgie-ding maak hom baie benoud, veral omdat sy skryfwerk daarmee geassosieer word."

Dana vertel self verder: "Ek is so bang mense lees my stories en dink ek het ’n romantiese verlange na die verlede. Die verlede was nie beter as nou nie. Ek wil nooit weer in 1985 wees nie: PW, militêre diensplig, die noodtoestand, Hawaise hemde, Rodney Seale se waarskuwings oor popmusiek … Eish!

"Ons sal mooi moet besin oor wat ’nostalgie’ presies beteken en hoe dit ’n mens se lewe kan ‘rig’. Ons Afrikaners verlang deesdae so na die verlede dat ons baie dinge vergeet. Ons verlang onsself as’t ware in die onskuld in. Dis nie reg nie. Dit is gevaarlik."

"Voel hy nou minder vreemd in die land ná sy reis en die opskryf daarvan in Hiervandaan?" wou Victor weet.

"Beslis, ja. Ek is meer optimisties oor die toekoms van die land as ooit. Maar dis nie ’n Dr Phil-agtige optimisme nie. Die politici en amptenare kan dit steeds alles vir ons opneuk as ons nie oppas nie. As ek praat van ‘ons’, praat ek van gewone mense. Ons wat in die oggend opstaan en geld op ’n eerlike manier moet verdien om aan die lewe te bly. Die meeste mense wil vrede en geluk hê.

"Ek het ’n essay van Saul Bellow oor die skrywer se rol in die gemeenskap gelees. Hy skryf: ‘The writer asks himself: ‘Why shall I write this next thing?’ It is still possible, despite all theories to the contrary, to answer: ‘Because it is necessary.’ A book, any book, may be superfluous. But to manifest love – can this be superfluous? Is there so much of it about us? Not so much. It is still rare, still wonderful. It is still effective against distraction.’

"Dit kom maar alles neer op die grootste gebod: Ons moet mekaar liefhê. Of jy nou ’n skrywer of ’n Zuma of ’n wat ook al is."

Vir Max du Preez (Beeld, 24 Oktober 2011) was die twee boeke wat hom die meeste geroer en bygebly het, Ciske de Rat van Piet Bakker oor die Amsterdamse straatkind en met ’n kortkop tweede is Ampie. En toe lees hy Hiervandaan van Dana. "Ek irriteer my (Engelssprekende) vrou deur kort-kort vir haar te wil voorlees. Ek lees paragrawe twee keer oor, soms van lekkerkry, soms van verstomming oor die skrywer se vermoë om ’n mens of ’n toneel so outentiek vir die leser lewend te maak. Ek stuur ’n uitasem e-pos aan ’n boekgeesgenoot: ‘Dana is meer as net ’n hedendaagse Herman ­Charles Bosman, hy’s ’n bietjie Chris Barnard en Bruce Chatwin, Abraham de Vries, Paul Theroux. Ek kan nie dink ek het al ooit in enige taal ’n fyner waarnemingsvermoë en beter storieverteller teëgekom nie.’

"Hiervandaan is nie net sommer ’n bundel reisstories nie. Snyman is ’n man met ’n missie: ‘Ek wil hierdie land waaroor ons so praat en praat, weer ’n slag aan die lyf voel. Dit wat my vreemd en ontuis in die land laat voel, wil ek probeer verstaan, net vir myself. Ek wil probeer uitvind waar ek inpas. Ek wil weet of ek nog hier hoort.’ As jy nie hier hoort nie, ou Dana, hoort nie een van ons hier nie.

"Snyman se verhouding met sy pa, ’n subtema deur ’n groot deel van die boek, gaan baie manlike lesers aan hul verhouding met hul pa’s laat dink. Snyman en sy pa praat gereeld oor die telefoon tydens sy reis, maar ou Dominee Snyman se gesondheid is aan die verswak: ‘Die dokter sê dit is maar hoe dit is met die hartkwaal wat hy het: Op en af, op en af, ’n laaste weemoedige sinkplaatpad tussen die bed en die kombuistafel.’

"As sy pa sê hy’s bekommerd oor sy seun, dink Snyman: ‘Jy’s bekommerd oor my? Hoe durf jy? Ek is die een wat my met die land bemoei. Ek is die een wat rondry en namens ons wonder of ons nog hier hoort. Jy is die een wat moed opgee en die regering die skuld vir alles gee, Pa. Jy is die een wat van ‘hulle’ praat. Is ek nie eintlik die een wat bekommerd moet wees nie, Pa?’

"Maar hy sê dit nie hardop nie, sê hy wel later in ’n ander gesprek vir sy pa, in reaksie op dié se vraag of daar nie ook goeie dinge in die verlede was nie: ‘Ons was nie net sleg nie, Pa. Maar ons verlang onsself op die oomblik in die onskuld in.’

Vir Du Preez is dit nie ’n boek "oor die politiek" nie. "Of ja, dit is eintlik, maar in die heel breedste sin van die woord; oor bleek- en Afrikaans-wees in vandag se Suid-Afrika. Maar nie op ’n selfbewuste manier nie.

"Snyman besoek die Snyman-stamvader, Christoffel, se plaas buite Franschhoek en gaan soek na die skoolmeisie van De Doorns wat glo babas maak vir ’n regeringstoelae. Hy gaan Pofadder toe om te gaan uitvra oor die bankroof aldaar. Hy slaap oor in die hotel op Daniëlskuil: ‘Teen die muur in die kamer, bokant die bed, is nog ’n ou hotelradio, een wat soos ’n kassie lyk, met reghoekige wit knoppies waarop staan: Afrikaans, Engels, Streeks. Nou gebeur niks wanneer ’n mens die knoppies druk nie.’

"Hy besoek Britstown, Vosburg en Carnarvon; hy soek na ’n ou Dreyer-boormasjien; hy vertel ons van die Datsun 1400’s, die Mazda 626’e, die Thames-lorries en die Chinese winkeleienaars wat lag en ‘baie dankie’ sê as die kinders hulle koggel met ‘tsjing tsjong tsja’; ook Kimberley, Koffiefontein en Lindley, waar ’n erge plaasmoord was. Maar hy gaan kuier ook in Masakeng, ’n town­ship buite Polokwane, op Julius Malema se spoor; en in Nkandla, Jacob Zuma se tradisionele tuiste. Eers tydens sy besoek aan Bloed­rivier kry hy dit reg om oor sy pa se dood te huil.

"Dis ’n fyn ding wat Snyman met hierdie boek doen – en ’n dapper een, en ’n tydige een. Met sy akute sintuie reis hy namens ons ‘in die geliefde land’; deur ons verlede, deur die koppe van ons mense, deur ons vooroordele en vrese, en hy doen dit met ontroerende eerlikheid, deernis en meelewendheid. Hy herinner ons daaraan dat ons hier hóórt."

In sy Nawoord skryf Snyman: "’n Mens kan nie 8 000 km deur dié land ry sonder om vol moed en geloof in die toekoms terug te keer huis toe nie. Ek sal hier bly woon, want ek kan nie anders nie."

In 2013 het Dana saam met Les Javan die produksie Hiervandaan op die planke gebring by die Vryfees in Bloemfontein waarin stories vertel word met musiek wat dit komplementeer. ’n Hele reeks toevallige gebeurtenisse het tot die ontstaan van hierdie produksie gelei. Les het ’n CD met die titel Hiervandaan uitgereik en kort daarna het Dana se boek Hiervandaan verskyn. Hulle het egter nie van mekaar se projekte geweet nie.

Dana het vir Hiervandaan navorsing gedoen oor die Snyman-familie. Hy het hul oorsprong teruggespoor na Solms-Delta, ’n wynplaas naby Franschhoek waar Les ’n inwonende kunstenaar is. En dit is waar hulle besluit het om die projek aan te pak. Les het aan Theuns du Buisson vertel dat die produksie gaan oor mense en menswees, asook waar hulle vandaan kom. "Dis amazing hoe mense se lewe kan crossover en jy nie eens daarvan weet nie."

Dana en die musiekgroep Klopjag het ook kragte saamgesnoer en was al verantwoordelik vir twee produksies van woord en musiek saam op die verhoog, naamlik Baby, as ek verby ry en Hier huil jy net twee keer. Albei bied ’n unieke reis deur ’n wêreld van agterpaaie, gastehuise, kroegies en vreemde dorpies vol karakters en stories.

Onder die radar: stories uit ons land word in 2013 gepubliseer. Dié titel kom uit ’n gesprek wat Dana en Valiant Swart gehad het. "Ek en Valiant het albei gereken dis ’n goeie naam vir ’n boek of ’n plaat, maar ek het hom nou voorgespring. Vroeëre weergawes van verskeie verhale in Onder die radar het al in Die BurgerBy en Weg! Verskyn," vertel Dana aan Danie Marais (By, 9 November 2013)

Onder die radar word bemark as niefiksie en vir Dana is dit baie deurmekaar, aangesien die stories in hierdie bundel meer name bevat wat verander is. "Ek weet self nie eintlik wat om die goed te noem wat ek skryf nie. Maar ek dink ons lewe in ’n tyd waar mense wil hê die stories moet waar wees. En baie van die goed wat ek skryf, is waar."

Vir Charles Smith (Beeld, 17 November 2013) is Onder die radar ’n "bloemingwil mooi boek. Hierin skryf Dana oor die vergetenes en uitgeworpenes van ons dorpies: mekênieks, kroegmanne, boormanne en spoorwegmense toe die treinfluite nog trots oor dorpies weergalm het voordat hulle die netjiese stasies ingestoom het. Nou is dinge anders," skryf Smith. "En Dana is die buitestander wat terugkeer na sy grootworddorpe. Hy is die argeoloog wat met sy soeklig in die grot soek waar die Afrikaanse denkpatroon vir dekades geheers het – en nou verdwyn. Met sy pen lig hy die seil van die nuwe Suid-Afrika op en kyk wat ons was en dalk steeds is.

"Dana skryf met ontsettende deernis oor ons mense. Sonder oordeel. Omdat dit ons was en is. Sy speurreise die geskiedenis in is intense en belangrike werk. En dan lees dit soos stories. Die een oor die spoorwegmense ('Die weggegooides') is so ’n storie. Die ooms wat die treine laat hardloop het. Die roepmanne en die stokers – en dié wat deur die treine getrap is. Dit is kragtige joernalistiek."

In 2014 is Onder die radar genomineer vir die kykNET-Rapport Boekpryse in die Niefiksie kategorie. Op LitNet het Dana aan Naomi Bruwer genoem dat hy geseënd voel om saam met sulke gesiene skrywers  vir so ’n prys genomineer te word. "Ek bedoel: Karel Schoeman – dit laat my voel soos ’n junior priester wat vlugtig in die teenwoordigheid van die pous kan wees. Dit alles gee my wankelrige selfbeeld tydelike troos."

Oor wat hom geïnspireer het om Onder die radar te skryf, vertel Dana aan Bruwer dat die boek ’n klomp losstaande vertellings van sy ondervindinge in "hierdie verdwaalde land" is. Hy skryf omdat hy eenvoudig net nie anders kan nie: "Ek hoop nie dit klink pretensieus nie. Ek kom uit ’n familie van ambagsmanne. Beide my oupas was motorwerktuigkundiges. My pa was ’n passer en draaier vir Yskor voordat hy gaan studeer het. Ek glo ek sit daardie tradisie voort: skryf is vir ’n ambag. Ek het ’n rekenaar vol woorde en met daardie woorde probeer ek iets skep  wat – hoop ek – soms vir iemand anders van nut kan wees."

In Rapport-Boeke (1 Desember 2013) skryf Pieter-Louis Myburgh: "As Dana Snyman ’n karakter in een van sy stories was, sou letterkundiges ’n dieper betekenis aan sy van geheg het. Met die verhale wat dié bekroonde skrywer in Onder die radar opdis, sny hy immers oudergewoonte deur die ooglopende banaliteit van gewone mense se alledaagse bestaan.

"Snyman kry dit storie ná storie reg om Jan Alleman se lot in roerende eenvoud saam te vat en hy sny tot die been met sy raak beskrywings en onverbeterlike waarneming van mense. Die skrywer gaan soek sy hoofkarakters agter die skerms, langs die kantlyn en onder die radar. (...)

"Onder die radar is beslis nie die ligte soort leesstof waarvoor die skrywer aanvanklik bekend geword het nie. Dit is verhale van regte mense se pyn en vreugde, hul foute en deugde, dig verpak in die woordkunstenaar se gestroopte styl. Afrikaanse lesers kan hulle gelukkig ag dat Snyman nie volhard het met sy voorneme om ’n boorman te word nie."

Dana se volgende bundel "stories" verskyn in 2015 onder die titel In die blou kamp: Facebookstories. Hierin het Dana 96 kort sketse van sy Facebook-inskrywings sedert 2011 saamgebundel. Oor die blou kamp van die titel vertel Dana aan Murray la Vita (Volksblad, 22 Julie 2015): "Facebook is mos blou en jy jaag jou woorde daar in ’n kampie in. Ja, daai blou kampie wat ons ons woorde nou injaag, nè ...

Oor die ontstaan van die bundel vertel hy verder aan La Vita: "Deesdae moet jy bemark as jy boeke wil verkoop en Facebook is ’n goeie bemarkingsmiddel – mense wéét van jou; al skréi dit op ’n manier teen wat jy is ... Maar ’n ou is ook maar ydel, nè? Jy kyk maar na die likes. Maar mettertyd het ek tóg agtergekom daar begin ’n gesprek ontstaan tussen my en mense. Toe het ek nou begin om klein storietjies daar op te sit. Ek probeer heeltyd vir myself sê: Skryf wég van jouself af; dis nie oor jou nie; skryf oor iéts wat jy gesien het ... verkiéslik ménse; dit gaan oor húlle, nie soseer oor jou nie. EK kom toe agter daar begin ’n gesprek; ’n mens kry veral baie inbox-boodskappe ... hierdie ou vertel my dit en daai vrou vertel my dat. En toe begin ek sien hierdie ding is – behalwe nou vir die ydel kant van bemarking en die lekker voel oor die likes ... ek het ’n verskríkle ding oor stories, net om stories te deel ... Ek voel op ’n manier soos ’n sendeling, as dit nou nie te pretensieus klink nie ... van om net mense se stories te vertél, en dit word al hoe sterker in my."

In Rapport (26 Julie 2015) skryf Jacques Myburgh dat Dana nie in sy inskrywings sanik oor die land en sy ellendige toestand nie, maar eerder probeer sin maak uit die digitale wêreld deur op ’n nostalgiese manier daaroor te skryf. In die voorwoord tot sy boek het Dana geskryf: "Ek het min of meer net een maatstaf: Met alles wat ek op Facebook skryf, probeer ek iets van myself en hierdie land en ons verlede aan myself verduidelik en dokumenteer en terselfdertyd met mense daaroor in gesprek tree."

In die blou kamp herinner Rudie van Rensburg (Volksblad, 27 Julie 2015) aan een van sy kinderdrome – "’n rit deur Lekkergoedland. Op elke tweede bladsy deel Snyman ’n lekker uit, soms stroopsoet, maar ook hier en daar ’n taai toffie of ’n suur suiglekker. Sy vermoë om uit die nietigste gewaarwording ’n pragstorie op te tower, verstom ’n mens keer op keer. (...) Koop In die blou kamp. 'Dis soos in amazing," sê dié Dana-aanhanger."

Dana bevind homself as ’n televisiester toe sy program, Op pad met Dana, vanaf 22 Februarie 2016 op VIA op DStv uitgesaai is. Vir die maak van hierdie program het hy saam met ’n televisiespan (Niel van Deventer, die vervaardiger, Charlenè Brouwer, die regisseur, Christiaan Scheepers, redigeerder en kameraman en Leon Human, kameraman) van dorp tot dorp deur die land gereis. Dana se indrukke en ervarings is op kamera vasgevang.

Vir Dana was die grootste uitdaging van die program om gewoond te raak aan die kameras wat hom oral agtervolg, het hy aan tvplus (17 Februarie 2016) vertel. "Ook was dit nogal moeilik om die kopskuif te maak dat die kameras my visuele rol as skrywer oorneem. Maar dit bring ook ’n nuwe dimensie aan die manier waarop ek reis."

Dit was nie maklik vir Dana om te sê wat uitstaan van die mense wat hy op sy reise ontmoet het nie, aangesien hy nie mense sommer wil tipeer nie. Maar wat hy wil sê, is dat "onse mense, swart, wit, bruin, is almal menslike mense. Dis al. Dis hoe dit is."

Hy hoop kykers kyk na Op pad met Dana en "hopelik gryp die land die kykers aan, soos die land en sy mense ons aangegryp het. In ’n sekere sin was die kameras toevallig by. Dit is ’n eerlike reis."

Hulle het aanvanklik beplan om van Jacobsbaai noord te ry, tot by Polokwane, maar, vertel hy aan Charlea Sieberhagen (Beeld, 3 Maart 2016), "ons roete het al by Touwsrivier verander. Toe het ons maar net begin ry en goed gevolg. Mense he ook vir ons op Facebook van mense en plekke gesê.

"Alles het vinnig gebeur en ons het in Januarie begin verfilm. Ek het toe maar net besluit ek gaan doen wat ek doen. Ek gaan nie nuwe klere koop nie. Ek wou nog gewig verloor, maar daar was nie eens tyd daarvoor nie.

"Ek het op die reis besef mense is desperaat vir hoop. Ek dink in Suid-Afrika begin mense elke dag van vooraf. Jy moet wéér besluit jy gaan nie ’n rassis wees nie. Jy moet jou elke dag weer motiveer en vir jouself sê die meeste mense is goed en wíl vrede hê. En die meeste mense ís goeie mense."

Dana verduidelik aan Sieberhagen dat wanneer mense aan hom dink, dink hulle aan verhale met ’n nostalgiese inslag. "Ek dink mense dink dalk ek gaan deur die land reis en na plekke toe gaan en terugverlang na die verlede. Ek dink party mense verwag dalk ’n nostalgiese reis deur die land. Ek hét baie respek vir die verlede, maar dit is definitief nie wat dit is nie. Ek wys mense die hier en die nou, die gewone mense en hul stories."

Dana se volgende boek is Op pad: ’n reisjoernaal wat in 2017 gepubliseer is. Dit is gegrond op sy gelyknamige televisieprogram. In die eerste deel van Op pad vertel hy van sy reise in die binneland van Suid-Afrika wat hy onderneem het vir die televisieprogram en in die tweede deel, wat ietwat korter is as die eerste deel vertel hy van die Wêreldbekerrugbytoernooi van 2015 en hoe hy dit ervaar het. Hiermee grawe hy in die binneste van ondersteuners van die Springbokke en ook diegene in Suid-Afrika wat die All Blacks ondersteun.

Vir Charles Smith (Beeld, 21 Augustus 2017) is dit ’n boek op soek na hoop, "maar dit was vir my met die lees meer ’n reis na die siel. Dana worstel met homself, met gebed, sy Afrikanerskap en sy plek in die land. Hy ry deur ’n land van armoede en hoop. Die desperate stemme. Die leë gesigte. Die wanhoop, skryf hy. (...) As lees kan help met genesing, is Op pad ’n uitsonderlike gids."

Jeanne Henning-Els (Rapport, 10 September 2017) skryf dat Dana al lank bekendstaan as een van Suid-Afrika se "eerlikste en deernisvolste" skrywers. "Hy sleur sy leser mee op emosionele binnereise met sy vertellings oor mense, diere en plekke.  (...) Met sy eerlikheid dwing Snyman sy leser tot nadenke. Sy opstandige gesprekke met sy oorlede pa ontroer, so ook die liefdesband tussen hom en ’n brandsiek, mishandelde hond. Snyman beskryf mense, gebeure en emosies so helder dat die gryswit foto's in sy boek oorbodig is. Hoe is dit dat ek Op pad in een sessie deurgelees het? ’n Skryfkunstenaar is aan die woord en sy niefiksie lees soos prosa."

Ook Willie Burger is vol lof, nie net vir Op pad spesifiek nie, maar vir Dana se skryfwerk in die algemeen. Hy sluit sy resensie in Vrouekeur van 13 Oktober 2017 af: "Snyman is ongetwyfeld een van die gewildste Afrikaanse rubriekskrywers. Dit is dalk die rede waarom hy soms nie ernstig genoeg opgeneem word nie. Hy het so half ’n reputasie as die volkstem, die draer van melancholie en nostalgie – hy sien homself ook as ’n 'rugbyondersteuner wat besorg is oor die land' eerder as iemand wat met behulp van Franse filosowe se werk-insigte kan probeer formuleer. Maar hy is veel meer as ’n melancholiese rugbyondersteuner met ’n gawe vir nostalgie. Hy dink fyn na, weier die eenvoudige oplossing, behou die kompleksiteit, registreer die lewe in die fynste besonderhede en konfronteer lesers sodoende met die verlede, met skuld en met die hoekom-vrae op ’n soortgelyke manier as wat akademici en navorsers dit in moeilike boeke doen. Snyman se werk is egter ook vir die meeste rugbyondersteuners verstaanbaar. En daarvoor behoort hy eintlik groot pryse te ontvang."

In 2006 kom Dana met ’n toneelstuk vorendag. Die uwe Pottie Potgieter is binne twee weke geskryf om die sperdatum vir die Aardklop Kunstefees se voorleggings te maak. Dana vertel: "Frank Opperman bel my eendag en sê hy wil hê ek moet vir hom iets skryf. Ek dog toe – okay, hier’s ’n kans al het ek nog nooit voorheen ’n toneelstuk geskryf nie. Ek het aanvanklik gesukkel om idees te kry. Ek het maar so op my bed gelê een aand toe ek om een of ander rede dink aan 143. Eenhonderd-drie-en-veertig werksonderhoude – dit was my eerste gedagte vir Pottie. Die res het maar gevolg." Die stuk word aangewys as die naaswenner van die AngloGold Ashanti-Aardklop-Smelt­kroesprys vir nuutgeskrewe tekste. Dana het al na homself verwys as "die enigste lid van Frank Opperman se skryfskool".

In sy resensie skryf Theo Kemp: "Die grootste lof kom Snyman toe deurdat hy met hierdie debuut ’n stewige en ware greep op die Afrikanerpsige het, sonder om dit te probeer verpolitiseer of die een of ander ideologiese stelling in te neem. Hy slaag ook daarin dat die kyker enersyds lagkry vir homself of met die bekendheid van die situasie, en andersyds vir kwessies waaroor hy nie normaalweg sou lag nie. En juis hierin is die sukses van die stuk opgesluit."

In 2008 word Die uwe, Pottie Potgieter opgevolg met Wyk 14. Weer is Dana die skrywer en Frank Opperman die akteur. Pottie voel in die stuk ’n mens moet betrokke raak by jou omgewing en stel hom verkiesbaar in ’n munisipale wyk, wyk 14. Frank Opperman vertel aan Elretha Britz dat hy in die proses sy lewe ondersoek en wonder of ’n mens moet ry of bly.

Hierna skryf Dana nog ’n eenmanstuk vir Frank Opperman getiteld Rooikaart. Die karakter in Rooi kaart wat Dana vir Frank geskep het, is Wally Koekemoer. "Wally is glad nie soos Pottie Potgieter nie. Hy is nie baie gaaf nie," het Opperman vertel. "Hy is die president van die rugbyklub en het baie geraamtes in sy kas. Die stuk speel af by die prysuitdeling van die rugbyklub. Wally behartig die prysuitdeling en doen sy bes om alles bymekaar te hou, ten spyte daarvan dat die meeste van die spelers nie opgedaag het nie."

Dana, Opperman en Gys de Villiers, die regisseur, was al drie baie in hul skik dat rugbyspelers Rooikaart geniet het. "’n Mens kry hierdie ouens in die regte lewe," het Dana gesê. "Hy is ’n kansvatter, ’n self-made man. Ek is opgewonde oor hom. Met die verandering van karakter het ek vir die eerste keer gesien hoe ’n uitstekende akteur Frank is. Daar is net geen ooreenkoms tussen Pottie en Wally nie. Ek is nie ’n rugby-ou nie, maar ek hou daarvan om rugby-ouens dop te hou. Dis maar hoe ek vir Wally gevind het."

Oor die samewerking tussen Dana en Frank het Frank vertel: "Ek en Dana werk lekker saam – vir so twee dae. Op die derde dag val alles inmekaar. Maar ek dink ons is ’n goeie span. Ons leer graag by mekaar. Toe my ma die stuk die eerste keer gesien het, het sy gesê alles lyk vir haar baie bekend."

Dit is die vierde produksie ­waaraan dié span saamwerk. Na Die uwe, Pottie Potgieter en Wyk 14 was daar die televisiereeks oor Pottie Potgieter. "Ek is besonder chuffed met Wally," sê Dana. "Ek het baie geleer uit foute wat met Pottie ­gemaak is. Ek het ná hom besluit dat ek ­totaal iemand anders op die verhoog wou sien. Wally is doelbewus nie ’n baie likeable persoon nie. Tog is dit ’n menslike verhaal."

Die televisiereeks is in opdrag van SABC2 gemaak en vir die skryf daarvan het Dana hom vir vier maande op Greyton gaan afsonder om daaraan te skryf. In die televisiestuk is daar vyf karakters wat almal middeljarige mans is wat by die huis sit. Hulle het vrede gemaak met hul situasie en nou sit hulle maar allerhande planne en maak, vertel Dana. "Daar is ’n bietjie van John Steinbeck se Cannery Row in die stuk. Die skrywery was egter makliker gesê as gedaan. Dis lekker om voltyds te skryf. Aan die anderkant is dit lekker uitdagend."

Dana het nie geweet hoe hy deur die skryf van die televisiereeks sou kom nie, "want jy sit met vyf karakters en jy sit met ’n begroting en jy sit met drie vertrekke. En al daai goed moet in daai drie vertrekke afspeel. En dit moet gesinsvermaak wees. Ek kan vir jou sê hier teen die middel raak ’n mens desperaat."

In 2014 span Dana en Frank Opperman weer saam met ’n solovertoning getiteld Die klaagliedere van ds Tienie Benade met Gerrit Schoonhoven as regisseur. Dit vertel van ’n Afrikaner-dominee in ’n tyd wanneer mense nie meer so gereeld kerk toe gaan nie. En weer is dit ’n sukses, met Frank wat aan die ontvangkant was van ’n Fiësta vir Beste Solovertoning in 2015. Selfs predikante het gesê dat die stuk baie raak vat.

Op die hakke van Ds Tienie kom Dana in 2016 met Hond vorendag en weer is dit ’n solostuk met Frank as die hoofspeler en Gerrit Schoonhoven weer as regisseur. Dit het by die Innibos Fees op Mbombela gedebuteer. Dana se teks gaan oor ’n joernalis wat op vryskutbasis vir Huisgenoot skryf en wie se hond dan siek word. Die joernalis moet ’n storie skryf oor ’n gesin wat in die parkeerarea van ’n mall in ’n Toyota Camry woon. Maar dan word hy deur Rapport gescoop. Toe word hy aangesê om ’n storie te skryf oor sy hond wat aan die doodgaan is. "Dit vertel die storie van ’n ou wat nooit huil nie, maar nou ’n breakdown kry. As jy Hond sien, gaan jy hardop lag terwyl jy huil," sê Frank vir Jaco Nel (Rapport, 19 Junie 2016)

Dana het aan Nel gesê dat die vorige stukke meer "goodie-goodie" was. Hy het self vier honde en skryf ook vir Huisgenoot.

"Dié keer is die humor donkerder en die storie is baie meer rou. Dit gaan oor een groot deadline op die ander wanneer ’n mens nie eens regtig die tyd kry om jou eie hond in vrede uit te sit nie. Ek en Frank werk teen dié tyd al soos ’n geoliede masjien. Ons het goeie vriende geword. Ons praat heeltyd oor die soort karakters wat ons skep en ons selfoonrekenings is ’n nagmerrie. Ons dink presies dieselfde, en daarom weet ek elke keer Frank gaan hierdie karakter lewe gee."

Dana sien homself as ’n gewone man – hy kyk rugby (’n WP-ondersteuner), drink J&B en soda, en raak soms depressief. Hy hou van Seinfeld en kyk graag BBC en die geskiedeniskanaal op DStv. Hy het al drie keer die Comrades-marathon gehardloop en kan nie verstaan dat mense die Comrades en die Argus-fietswedren in dieselfde asem kan noem nie. Hy is lief vir Afrikaanse musiek (hy hou van Gé Korsten), eet graag Woolworth’s se kos en koop sy klere by Mr Price.

In Februarie 2008 is Dana getroud met Naomi Herselman, ’n direkteur van New Media Publishing in Kaapstad. In Sarie van Maart 2008 vertel Dana aan Charis Labuschagne dat om eerlik te wees hy nie gedink dat hy óóit weer gaan trou nie. "Ek het my verhoudings gehad, ja, en was in my 20’s kortstondig getroud, maar in my hart was ek nog altyd op pad, ’n bietjie crazy. Toe ontmoet ek Naomi. Of liewer: leer ken ek Naomi op ’n ander manier, want ons het mekaar ’n stuk of vier jaar gelede al ontmoet. En nou het ons mekaar gekry. Ek hou van Naomi, want sy is anders as ek. Sy onthou waar sy haar motorsleutels neergesit het. Sy kan met Telkom fight en weet hoe om bouers te hanteer. Ek hou van vroue wat sterk genoeg is om sag ook te kan wees. Naomi is een. Sy is mooi en sexy en lojaal en vrygewig."

Naomi vertel: "Hoekom nou? Dalk omdat vir die eerste keer reg voel. Daar’s steeds geen waarborge nie, maar soos Dana eenkeer gesê het: ‘Ek sal eerder Alzheimersiekte saam met jou kry as met enigiemand anders. [...] Ek en Dana verskil soos dag by nag. Hy’s stil en ek hou van gesels en mense; hy lees kompulsief, hou nooit op nie, ek lees graag, maar met meer balans. Hy leef in sy kop en ek is oop en voorspelbaar. Maar ons deel ook dieselfde liefdes. Ons hou van oop paaie, die Karoo, Namibië, van net in die kar klim en die pad vat. Dana het ’n sin vir humor en goeie maniere. Hy’s intelligent. Ek respekteer hom en dis belangrik."

Dana en Naomi is later geskei.

Dana, Kabous Verwoed en Bacchus Nel stel in 2007 ’n vertoning saam getiteld Langpadstories. Dana vertel stories oor boere, boemelaars, swanger kroegmeisies en ’n ou wat 42 keer na mekaar na Steve Hofmeyr se liedjie "Pampoen" geluister het. Tussendeur sing Bacchus Nel oor die langpad se vreugde en verdriet en Kabous lees poësie voor – die ongelooflik mooiste woorde. Al drie deel hul woorde van alleenheid, misdaad, die dood en alkoholisme. "Dit is nie ’n swaar en ernstige vertoning nie, maar ook nie lighartig en laf nie. ’n Mens lag wel, soms voel jy bietjie hartseer en aan die einde voel jy beter oor die lewe in die algemeen en oor Suid-Afrika in besonder."

Erkenning vir Dana as joernalis en skrywer bly nie uit nie. In 2005, tydens die jaarlikse Mondi-kompetisie, word Dana in die kommentaar-kategorie bekroon vir sy Hans Wallaby-artikel oor die omstrede vleuel Clyde Rathbone. In hierdie artikel is Dana se tipiese satiriese aanslag en sy fyn sin vir waarneming duidelik sigbaar. Hy verwoord ook liefhebbers van Suid-Afrikaanse rugby se wrewel omdat Rathbone wat ’n Suid-Afrikaner is, vir die Aussies gaan speel het en dit dan boonop só geniet. Hy het weer, soos al baie maal in die verlede, die lesers van sy artikel gedwing om op sy uitgesproke mening te reageer.

In 2005 en 2006 ontvang Dana die ATKV–prys vir gedrukte media in die kategorie vir tydskrifjoernaliste. Hierdie prys word toegeken aan joernaliste wat deur middel van die gedrukte media die meeste gedoen het om ’n kreatiewe bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur te lewer. Die beoordelaars was Susan Samuel, Lizette Rabe en Harald Pakendorf. Van die beoordelaars het gesê Dana se portefeulje verteenwoordig "van die beste skeppende werk wat tans in ons media gesien word – en nie slegs in Afrikaans nie". In 2007 haal hy ook die kortlys vir die Jan Rabie/Rapport-prys vir nuwelingskrywers van prosa.

In 2008 wen hy die gesaghebbende Pica-toekenning vir Reisskrywer van die Jaar. In 2012 verwerf hy ’n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie rubrieke vir die verhaal van Rooikappie in SMS-taal wat in Die Burger en Beeld verskyn het – ’n prestasie wat hy in 2013 herhaal toe hy weer ’n ATKV-Mediaveertjie ontvang vir beste rubriekskrywer. In 2011 het hy ’n Mondi-koeranttoekenning in die afdeling artikelskryf ontvang vir "Ons roep hom Sello" oor Julius Malema se kinderjare. Hy is ook aan die ontvangkant van die Cordis-Trust Goue Pen-prys in 2011 saam met enkele ander mense. In September 2018 was Dana die aanbieder van die jaarlikse slypskool van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV).

Dana vertel van sy gunstelingboek The Snow Goose deur William Fiennes. "Ek weet nie van ander mense nie, maar ek kry so ’n verdrietige, woordelose verlange as ek iewers staan en wilde ganse of eende, selfs hadidas, vlieg in formasie verby. Net om daardie rede het ek dié boek gekoop, want volgens die omslag het Fiennes agter migrerende sneeuganse aan gereis. Hier is ’n bloedbroer, het ek gedink. Hy kry ook daardie gevoel wat ek kry. [...] Hy beskryf die reis, maar hy probeer ook woorde kry vir daardie woordelose verlange wat ouens soos ek en hy ervaar wanneer ons wilde voëls die ooptes in sien vlieg. [...] Ek is nogal ’n obsessiewe leser: Ek lees ’n boek, of gedeeltes daarvan, obsessief oor. Met hierdie een doen ek dit knaend, want dis deksels mooi en sintuiglik geskryf ook. Op ’n manier het my jaar ook verloop soos daardie migrerende sneeuganse se tog: al verder weg van waar ek was, hopelik al nader aan daar waar ek wil wees."

Hoewel Dana lig reis, is daar sekere goed waarsonder hy nie reis nie. In 2012: "Soms pak ek nie genoeg klere in nie, dan koop ek langs die pad vir my iets nuuts. Ek sorg altyd dat ek my kamera het, en ’n notaboek, en genoeg boeke om te lees. Ek het ’n dierbare ou Mazda-bakkie, ’n 4x4, maar ek is nie ’n perd wat glo aan allerhande bybehore nie. Jy sal nie sommer ’n leë jerry can op my dak sien nie. Deesdae sukkel ek om sonder my meisie, Ingrid, op reis te gaan. Wanneer sy saamgaan, moet allerhande muskietuitwissingsapparate saamgaan. Sy verander in ­Genghis Khan wanneer sy ’n muskiet sien. Sy het so ’n raket-ding waarmee sy muskiete doodskok, ge­wetenloos. Ek het vir haar ’n toestel gekoop wat seine uitstuur en muskiete waarsku: ‘Gevaar. Danger. Nkosi. Julle betree die gebied op eie risiko. Vat julle angels en vlieg in ’n ander rigting as jy wil bly leef.’" (aan Riëtte Grobler, Beeld, 12 Mei 2012)

Dana se groot liefde is sy drie honde, Jerry, Kleintjie en Vlooi. Jerry en Kleintjie is township-honde. Hy het hulle gekry by mense wat honde uit die townships red. Jerry is van Du Noon, ’n township naby Milnerton in die Kaap, en hy dink Kleintjie is van Khayelitsha in die Kaap. Jerry is vernoem na die sportkommentator Jerry Schuitema: "Kyk, hy lyk nogal so ’n bietjie na hom," vertel Dana vir Kirby van der Merwe. "En sommer ook na daai ander Jerry: Jerry! Jerry! Jerry! Springer. Kleintjie Grobler is net Kleintjie." (Beeld, 1 Maart 2009)

Dana bly tans op Jacobsbaai aan die Weskus. Oor hierdie keuse sê hy: "Ek het al baie rondgery in my lewe en dié plek is die beste plek. Ek like die Karoo en ek like die see. Wat ek like van die Weskus, is: dis die Karoo by die see. Ek dink nie ek gaan ooit hier wegtrek nie. Ek is nou ’n Weskusklong. Worsie Visser reincarnated."

Nadat hy Jacobsbaai gesien het en besluit het om daar te bly, het Dana dadelik bedank as voltydse joernalis by Weg!, sy pensioengeld gekry en daar gaan bly. "Die Weskus is mos eintlik nie ’n mooi wêreld nie. Ek weet nie hoekom ek tot sulke goed aangetrokke is nie, maar ek geniet ’n country song."

Behalwe sy honde bly Johannes-hulle by hom. Hy verduidelik aan Anika Marais (Volksblad, 12 Augustus 2013): "Johannes het my pa opgepas. My pa is oorlede. In April (2013) sal dit nou twee jaar terug wees. My pa het op Ventersdorp gebly. Hy was maar ’n armgat. En daar was nie regtig iets wat ek vir Johannes kon gee nie. Hy het my pa teen die einde van sy lewe toilet toe gevat. Toe ná my pa se begrafnis kon ek nie vir Johannes daar los nie. En toe het ek hom nou maar Jacobsbaai toe gebring, want daar is nie werk vir hulle daar bo nie.

"En nou is hy so ’n wenner op Jacobsbaai," sê Dana trots. "Hy het ’n lisensie en hy ry die mense se kinders skool toe en hy is net hierdie fantastiese man. Maar toe verlang hy na sy vrou. Toe sê ek vir hom: ‘Ag jirre, bring nou maar vir Lettie ook.’

"Toe bring hy vir Lettie, maar daar is nie werk vir Lettie in Jacobsbaai nie. Lettie het natuurlik dadelik charge van die huis gevat soos ’n moeder. En toe onthou ek Lettie het vir my pa ’n lappieskombers as ’n geskenk gemaak. Toe vra ek vir haar om vir my so ’n lappieskombers te maak en dan sal ek kyk of ek dit vir haar kan verkoop. Toe adverteer ek dit op Facebook en toe kry ons skielik sommer ’n klomp bestellings. Nou sit sy en lappieskomberse maak.

"Maar nou het sy ’n seun Koos wat verstandelik gestremd is. So Koos is ook nou daar op die werf. Jirre, dis verskriklik daar by my. Maar ons lewe nie haglik nie. Ons lewe mooi. Ek het ’n mooi huis.

"Toe sê Lettie haar boetie kan goed met masjiene werk. Nee, okay, laat ons die boetie ook afbring. En toe laat ons vir Moses afkom om ons uit die Egipte van komberse te lei. Toe kom hy nou. Hy het met die bus afgekom na die Kaapse stasie. Jirre, ek sal daai dag nooit vergeet nie. Daar klim hy van die bus af met ’n ou naai­masjien en ’n sak met klere. Dié ou wat nog nie eers in Johannesburg was nie. En toe gaan wys ons hom die eerste keer die see. Hy is fantasties. Hulle maak nou komberse daar by my en hulle kry nou meer geld as wat hulle ooit vantevore gekry het."

Hy vertel hoe baie Johannes, Moses, Lettie en Koos vir hom beteken het ná sy vriendin hom gelos het. "Ek was in my moer. En hulle het my aan die gang gehou. As dit nie vir hulle was nie, het ek êrens gedryf in water. Moses het letterlik by my op die bed kom sit en my hand vasgehou."

Dana skryf deesdae voltyds. Sy stories verskyn gereeld in koerante en tydskrifte en dis juis as gevolg daarvan dat Dana nie altyd na waarde geskat word nie, het Abraham de Vries aan Danie Marais (Beeld, 9 November 2013) gesê. Vir De Vries is Dana een van die beste kortverhaalskrywers in Afrikaans.

"Ek waardeer sy woorde geweldig," sê Dana aan Marais. "My selfvertroue is soms maar laag. So iets van iemand soos hy laat my aanhou. ’n Mens hoop maar jy kan in die toekoms nog ’n propperse kortverhaalbundel of ’n roman of wat ook al skryf om te bewys jy kan bo rubrieke uitstyg.

"Ek staan in die algemeen bekend as ’n ‘bekroonde rubriekskrywer’. Om een of ander rede as jy in 1972 ’n prys vir ’n rubriek gekry het, dan bly jy ’n ‘bekroonde rubriekskrywer’. Eintlik skryf ek hopeloos te veel rubrieke, maar ek skryf om oorlewing. Ek het nie die luukse om ’n universiteitsalaris te trek en te skryf wanneer ek wil nie."

Teenoor Marais meen Dana dat dit dalk is omdat hy goed uit die verlede verwoord dat mense hom met die ou dae verbind, maar vir hom is nostalgie ’n baie gevaarlike ding. "Ek wil nooit weer in 1985 wees nie. Dis PW Botha, die noodtoestand. En daai tyd het ons ook inry-bioskoop toe gegaan en by padkafees geëet, maar ek kan nie dink dat ek al ooit ’n suiwer nostalgiese storie geskryf het wat nie ’n draaitjie aan die einde het nie. Soms voel dit vir my of mense die einde van my stories mislees.

"Ek was nie en ek sou amper nie ’n skrywer kon gewees het in die ou Suid-Afrika nie. As jy daai selfde goed tóé geskryf het, sou dit half ’n vorm van opsweping gewees het. Maar nou is dit, nabetragtend beskou, ’n soeke na self, na wie ons is."

Dana meen dat die Afrikaners baie hard probeer om te versoen. "Mens kan sulke goed nie meet nie, maar in terme van die bevolkingsgroepe in die land, wonder ek of daar mense is wat harder as die Afrikaners probeer. Baie keer is dit krom en skeef en paternalisties, maar hêng, die ouens probeer."

In ’n onderhoud in die gewese Insig het Dana gesê hy dink Bruce Springsteen is ’n groot Afrikaner en hy voel steeds so en kan nie wag om een van sy konserte in Suid-Afrika by te woon nie, vertel hy vir Danie Marais: "Springsteen gaan oor daai besef dat jy in ’n landskap lewe waar alles nie verloop soos jy graag wil dit moet nie, en jy jou dan aanpas, ten spyte van. En in daai stryd om jou aan te pas, ten spyte van, maak jy f**ops."

Vir Dana, as ’n teruggetrokke mens, is dit nogal soms moeilik as soveel mense met hom wil gesels asof hulle ou vriende is. Hy erken teenoor Marais dat hy nie veel vir homself te sê het nie. "Ek’s ’n skrywer, nie ’n prater nie, maar die mense is vriendelik. En ek is dankbaar daarvoor. Dit doen my swak selfbeeld goed as mense met my wil praat oor my. ’n Swak selfbeeld is ook maar die Swart Hond se skaduwee."

Dana was die gesig van die Hike for Hope, toe daar gestap is om mense bewus te maak van die stryd teen depressie. Hy praat met respek van die Hond. "Eish, hy’s by my deur. Hy lê daar voor sy ketting. Ek leer die ou nou ken. Probeer met hom sake beding. En hoe meer ek daai Swart Hond leer ken, hoe meer besef ek, jy kan die ou miskien bietjie rustiger kry op verskillende maniere, maar alles dui daarop dat hy maar deel is van jou, dat hy in jou spoor trap, soos Van Wyk Louw sê."

Dana voel baie sterk oor die destigmatisering van depressie, vertel hy aan Danie Marais. Terwyl hy grootgeword het, was daar altyd op verskillende dorpe ’n tannie wat "aan haar senuwees gely het". Sy ma het ook aan haar senuwees gely. "So, as ek enigsins met die bewusmaking daaromtrent kan help, sal ek, maar dis steeds nie maklik vir my om te sê nie.

"En omdat ek grootgeword het in ’n gemeenskap wat geen erkenning daaraan gegee het nie, voel dit steeds of iemand vir my sê: ‘Man, ruk jou reg! Jy’s eintlik maar net ’n slapgat. Daarom lê jy 9:00 nog in die bed.’"

Aan Sarie het Dana gesê dat hy hoop om met sy werk mense aan te raak. Hy het geen literêre ambisies nie, ’n mens kan in sy hart inkyk. En hy hoop ook dat mense begin besef daar is nie maklike oplossings vir belangrike kwessies nie. "Ons lewe in ’n tyd van kitsoplossings: As jou maagspiere verslap, koop ’n abflex. As jy nie meer van jou land hou nie, kry ’n nuwe een. Ek het hoop vir Suid-Afrika, dit word bevestig deur ’n klomp dingetjies wat ek sien. Daar is drie dinge: geloof, hoop en liefde – en die grootste hiervan is die hoop."

Oor boeke, fiksie of niefiksie, wat Dana gereeld herlees, vertel hy aan Naomi Bruwer op LitNet dat hy gereeld DJ Opperman se Ballade van die Grysland herlees: "Ek het selfs al een aand vir Eugene Terre'Blanche gevra om dit vir my voor te dra. Hy het die hardop geken. Dit was drie-uur in die oggend en ek en hy het in die donker by sy Nissan-bakkie voor die Ventersdorp Hotel gestaan."

Dana het nog nooit enige geheim daarvan gemaak dat hy ’n stryd voer teen depressie nie. Hy is een van die ambassadeurs van The Hope Hike, ’n jaarlikse pretstaptog om geld vir die bewusmaking van depressie as chroniese mediese toestand in te samel.

Vir Dana is dit ’n volgehoue stryd teen depressie en behalwe medikasie is dit vir hom goed om met sy drie honde te gaan stap: "Ek dink dit is simbolies dat The Hope Hike juis ’n staptog is. Dit is ’n simbool dat jy treë vorentoe gee."

Dana en Anette Roberts van Bloemfontein het mekaar in Januarie 2017 op Jacobsbaai ontmoet en in Junie het hy haar by Boerneef se Pramberg gevra om te trou. Hy vertel aan Nadine Theron (Volksblad, 27 Junie 2017) dat dit lewensveranderend is: "Dis wonderlik, ek het nie gedink so ’n liefde sal ooit met my gebeur nie, dis regtig ’n groot ding ... daar is soveel clichés."

Op Facebook het Dana geskryf oor hoe dit voel om op ’n middeljarige leeftyd weer verlief te wees: "Een van die voordele van verlief-en-lief-raak in jou middeljare, is jy het nie meer illusies oor live-happily-ever-after nie. Jy weet live-happily-ever-after is genade, live-happily-ever-after is geduldig, live-happily-ever-after is vriendelik, live-happily-ever-after is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, live-happily-ever-after is nie verwaand nie, handel nie onwelvoeglik nie, en soek nie sy eie belang nie. Live-happily-ever-after bedek alles, hoop alles, glo alles, verdra alles."

En toe, op 4 Oktober 2017 twee maande voordat Dana en Anette op 9 Desember sou trou, het Anette haarself vergas. In ’n briefie wat sy nagelaat het, het sy geskryf: "Alles is te veel. Ek is jammer. Liefde, Anette." Sy laat haar twee dogters, Lumien en Simoné, en ’n seun AJ agter. Sy is veras en haar roudiens was op 9 Oktober 2017 in Bloemfontein.

Dana het aan Murray la Vita en André Damons vertel dat sy ’n "diep ding" in haar gehad het wat net "oorgeneem" het. "Al wat ek kan sê, is ek kan nie iets sê nie," het Dana voortgegaan. Dit is verby hartseer; dit is verby skok ... dis verby skok. (...) Dis depressie waarvan ’n mens nie weet nie. Dis amper ’n flippen cliché dat mense sê depressie is ’n verskriklike ding ... partykeer wéét mense nie ’n ander mens is depressed nie."

Anette se pa het vroeg in Desember 2017 homself in sy motor in Marlothpark, Mpumalanga vergas.

Ná Anette se selfdood het Dana besluit om op die dag wat hy en Anette sou trou ’n konsert  te hou by die Kontrei Keffie op Jacobsbaai. Gian Groen, Gert Vlok Nel, Wouter van de Venter, Stefan Burger en Les Jovan het by die konsert opgetree. Johan Bakkes was die seremoniemeester. In minder as ’n week was die konsert volbespreek. Toegang was gratis en die konsert is ook regstreeks op Netwerk24 uitgesaai.

Dana het die konsert op Facebook aangekondig: "Iets goed moet uit al die verdriet kom ... en hierdie is die begin van ’n projek wat ek iewers in die nuwe jaar mee wil begin. Om mense veral van bipolêre depressie bewus te maak. Ook om almal wat iemand deur selfdood verloor het, te probeer help en by te staan ... Al die dinge prut nog in my kop. Maar ’n mens moet iewers begin. So, as jy op 9 Desember kan of wil, kom huil en lag saam."

Tydens die konsert het Dana gepraat oor hoe sy drome oor sy troudag versplinter het. Hy het ook ’n gebed aan Anette opgedra.

Dana het reeds in Desember 2017 sy huis op Jacobsbaai verkoop en hy het in April 2018 na Kaapsehoop in Mpumalanga getrek. Hy vertel aan Hanlie Retief (Rapport, 10 Desember 2017) dat dit tyd is vir nuwe hoop: "Mens moet hoopvol lewe. Ek is 55. Ek was nog nooit ambisieus nie, maar die 15, 20 jaar wat oor is, wil ek iewers help. Ek is nie gekwalifiseerd nie, maar ek kan vloere vee, ek kan luister. En ek sal maar altyd skryf ..."

Na Anette se dood het hy besluit op ’n koersaanpassing. Sy vriendskap met die skrywer Annemarie van der Walt, wat al 14 jaar lank op Kaapsehoop woon, kom ’n lang pad. Dit het begin in die dae toe hulle albei saam by Beeld gewerk het. Sy het een deel van haar huis aan Dana beskikbaar gestel en hy en sy vier honde het die lang pad van die Weskus af aangedurf om op Kaapsehoop te kom nes skrop.

"Ek het wonderlike herinneringe aan Jacobsbaai, maar dit is ’n fase in my lewe wat ek wou afhandel. Ek het oor die jare baie op Kaapsehoop kom kuier en my en Annemarie se vriendskap is ’n konstante vriendskap wat oor jare strek. Die plekkie het my al met my eerste besoek bekoor, want ek is mos nie iemand wat in ’n stad kan bly nie. Selfs Nelspruit is te groot vir my. Ek het ’n kleindorpmentaliteit, want ek het grootgeword op klein dorpies soos Daniëlskuil in die Noord-Kaap. Kaapsehoop het in die paar maande op my kom groei. Dis heerlik omdat hier soveel plekke is waar ek met die honde kan gaan stap. Dit is nie eers nodig om hulle in ’n bakkie te laai nie, want daar is lekker staproetes reg rondom die dorp." (https://afrikaans.com/leefstyl/n-nuwe-staning-vir-dana/)

Dana het later in 2018 weer terug Weskus toe getrek.

Publikasies:

Publikasie

Uit die binneland

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144858 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Anderkant die scrap

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798147148 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op die agterpaaie

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624043522 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels onder die titel On the backroads

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op die toneel: stories, reise en stemme

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798151214 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hiervandaan: op reis in die geliefde land

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053187 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Erla Rabe onder die titel The long way home

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onder die radar: stories uit ons land

Publikasiedatum

2013

ISBN

 9780624062271 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die blou kamp: Facebook-stories

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780924072256 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op pad: ’n reisjoernaal

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780624077176 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Dana Snyman beskikbaar op die internet

’n Keur van artikels deur Dana Snyman beskikbaar op die internet:

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Dana Snyman (1963– ) appeared first on LitNet.

François Bloemhof (1962–)

$
0
0
Foto: Naomi Bruwer

Gebore en getoë

François Bloemhof is op 15 September 1962 in die Paarl gebore, die jongste van twee seuns. Sy broer, Etienne, werk by NB-Uitgewers.

Omdat sy pa, Boet, ’n bankbestuurder was, het die gesin heelwat rondgetrek, sodat hy net maats gemaak het, voordat hulle weer getrek het. “Toe word ek nooit ’n groepdier nie.” Hy meen dat hy sy vormingsjare op Wellington meegemaak het. Syns insiens was hy in sy graad 7-jaar, toe hulle gesin na “die bose stad” Parow naby Kaapstad verhuis het, klaar gevorm. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Tygerberg.

In graad 9 het François se Engels-onderwyser vir hom 97 persent gegee vir ’n kortverhaal, en toe het hy geweet: skryf is wat hy wil doen. Maar hy het gedink hy gaan kortverhale skryf. As kind het hy boeke verslind, maar net Engels, omdat hy nie die soort boeke wat hy wou lees, in Afrikaans kon kry nie.

As hy boeke moet uitsonder wat in sy jeug ’n besonderse invloed op hom gehad het, is dit Bram Stoker se Dracula, Roald Dahl se kortverhale en die “hele lot Agatha Christies. Ek is, nes sy, op 15 September gebore en ek glo nie dis toevallig nie,” vertel hy aan Naomi Bruwer op LitNet.

Hy het ook as kind ’n boek gehad wat ’n blywende indruk op hom gemaak het en wat dalk onwetend by hom die wil geskep het om ook deel te word van die wonderlike wêreld van stories, waar enigiets moontlik is. “Ek onthou Die koning van die katte deur René Guillot as fantasties. Die boek is uit Frans in Afrikaans vertaal. Dalk is dit nie eens so goed soos ek dit onthou nie. Ek sou graag met een van my boeke so ’n indruk op iemand wil maak dat hy of sy dit dekades later nog sal onthou. Al is dit net die naam!”

François vertel dat hy in sy vroeër jare ’n onderpresteerder was wat swak rapporte onderskep het en tot na die vakansie teruggehou het. “Of daardie rapporte vervals het (uitstekend, moet ek byvoeg). Ek het steeds ’n probleem met memorisering en die slaafse navolging van feite. [...] Skool was vir my ’n plek van harde lewenslesse en rigiede feite. Ek is daardeur net voor mense besef het daar is iets soos ’n spesifieke begaafde kind. Gee vir my woorde en redenasies, en hou die formules en reëls.”

Op ’n vraag of hy gelukkig was as kind, antwoord François: “Wel, nóú is ek, en dit voel anders, dus was ek seker nie gelukkig nie. Ongelukkig? Beslis nie. My kinderjare was neutraal.”

Hy voel ook dat sy jeugjare hom nie werklik vir die lewe voorberei het nie. “Dit was geen poort tot beter dinge nie, want daardie pad moes ek self oopskop. Jonkwees, sou ek sê, was in my geval bloot ’n bedrywige wagkamer.”

François vertel aan Beeld (22 November 2010) dat sy inspirasie nie van Stephen King afkomstig is nie, maar van die comics uit sy kinderdae. "Toe ek eenmaal ’n opstel oor my liefde vir comics geskryf het, het my onderwyser my mooi laat verstaan dis nie goeie leesstof nie. Hoe verkeerd was hy nie, want enigiets wat jou leeslus aktiveer, leer jou om met woorde te werk. Batman; The house of mystery; Superman; Archie; die Classics Illustrated­-reeks van bekende literêre werke; Spiderman. (...)

"Daardie prenteverhale het my vermaaklik ontvoer en as ek vandag ’n boek optel of ’n storie uitdink, is so ’n ervaring steeds wat ek soek."

François vertel aan Org Potgieter (Die Burger, 13 Oktober 2012) dat die sy lewe as kind oorheers is deur ouers, onderwysers en dominees. "Daar was geen humor nie. God was ’n nors ou omie met ’n baard wat alles dophou wat ek doen. Slegs die Trompie-boeke het my ’n sin van selfrespek besorg. Trompie was stout en dit was oukei. Die Trompie-boeke en ander soortgelyke ontspanningsjeugverhale was vir my ’n lig in ’n donker tonnel. Omdat ek as gevolg van Trompie besef het dat dit oukei was om stout te wees, het ek later in my lewe sommer baie stout geword. Natuurlik was Trompie se leuse altyd 'stout, maar nooit lelik stout nie'. Dis ’n middeweg wat nie net ek nie, maar ook vandag se jongmense maklik verloor."

Verdere studie en werk

Na matriek is François na die Universiteit van Stellenbosch. In 1991 word Nasionale Pers se DJ Opperman-beurs van R4 000 vir nagraadse studie in die letterkunde aan hom toegeken. Hy behaal sy MA-graad in 1992 in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Die onderwerp van sy M-tesis was Die begin in die kortverhaal. Die navorsing vir die tesis is deur sy skryfwerk beïnvloed, en dit het op sy beurt weer ’n invloed uitgeoefen op die manier waarop hy skryf.

Na universiteit was François kopieskrywer/proefleser/draaiboekskrywer by Sanlam. Dit was vir hom die ideale soort werk, aangesien hy met woorde kan werk én omdat hy slegs halfdag gewerk het, dan gimnasium toe kon gaan en daarna met sy “regte werk” kon voortgaan, vertel hy in ’n onderhoud. Hy hoef ook nie das en baadjie te gedra het nie, wat sy keuse van werk verseël het.

François se eerste skryfwerk was vir tydskrifte. Hy vertel self dat hy jare lank “grusame” Engelse kortverhale vir tydskrifte gestuur het – verhale wat hulle nie gou genoeg kon terugstuur nie. Totdat hy vir die grap ’n lighartige Afrikaanse verhaal aan Huisgenoot gestuur het en sy vriende se name daarin gebruik het. Dit is vir hom onmoontlik om tred te hou met sy tydskrifbydraes vir al wat ’n publikasie is – van Insig en De Kat tot VrouekeurHuisgenoot en Sarie. Talle van sy verhale is ook in versamelbundels opgeneem. François het baie van sy tydskrifverhale onder die skuilnaam Frans Bruwer geskryf. Hy was self ook twee jaar lank verhaleredakteur by Sarie en is ook een van die beoordelaars vir LitNet se skryfskole. Hy was ook die Afrikaanse redakteur van New Contrast en het die leesrubriekWoorde wat wip in die jeugbyvoegsel Jip behartig.

François voel dat die skryf van tydskrifverhale sy talent geslyp het vir sy eerste roman. In 1991 maak hy sy debuut as romanskrywer met Die nag het net een oog. En onmiddellik word hy raakgesien.
Die nag het net een oog word bekroon met die debuutprys in De Kat/Antenne/Sanlam se romanwedstryd. Dit word ook beskou as die eerste Gotiese riller in Afrikaans. Die aanhaling uit Dracula voor in die boek, “I’m glad you found your way in here, for I’m sure there is much that will interest you”, sou profeties wees, want deur die jare is daar baie in sy boeke wat verkennende lesers sou interesseer.

In Beeld van 22 November 2010 vertel François dat die raamwerk vir Die nag het net een oog klaar was, toe hy die aankondiging van die kompetisie gesien het en hy het besluit om die sprong te waag: "Toe ek die prys wen, was dit ’n teken dat hier tog vir my soort storie ’n plek is. Dis lekker om jou idees vrye teuels te kan gee. Dis nié ’n geval van 10% inspirasie en 90% perspirasie nie - skrywers kan in ruil vir hul gawe maar ’n bietjie moeite insit."

Die nag het net een oog speel af op ’n klein plattelandse dorpie, Botmasdorp. Terwyl Botmasdorp en sy inwoners hulle regmaak om die dorp se eeufees met groot fanfare en baie toesprake te vier, trek daar ’n geheimsinnige vreemdeling in ’n baie bouvallige kasarm van ’n huis in.

"Hierdie huis, met sy soel verrotting en yskoue gange, neem die plek in van die grukasteel van die klassieke grieselroman" – aldus Riana Scheepers in Insig van Oktober 1991. "Die leser is reeds deur die roman se proloog en voorafhoofstuk voorberei daarop dat hierdie naamlose vreemdeling die wraaknemer is wat ten doel het om die inwoners van hierdie dooierige plekkie een vir een dood te maak. Die verhaal is nie sonder swak plekke nie, maar Bloemhof hanteer en manipuleer die inligting waaroor beide die leser en die karakters beskik, so vernuftig dat die skrywer nooit sy leser verloor nie."

Tom Gouws (Die Kat, Februarie 1992) meen dat die verhaal van jou besit neem en dat die teks ’n belangrike gebeurtenis in Afrikaans is. “Gaan koop die boek, klim in jou doodkis en hiberneer tot Maandag. Weet net deurentyd: die nag het net een oog,” skryf Gouws.

François vertel dat hy met ’n riller gedebuteer het omdat hy van rillers hou weens hulle onvoorspelbaarheid. “Met ’n goeie riller is jy nie veronderstel om te weet wat volgende gaan gebeur nie. As ek die dag lus is vir iets voorspelbaar, lees ek ’n liefdesverhaal. My besluit om aanvanklik rillers te skryf, het my uitgedaag om kreatief te dink en my verbeelding buite die reëls te laat gaan.”

Amore Bekker, omroeper op RSG, het aan François genoem dat ’n rolprentvervaardiger in Amerika op soek is na ’n wetenskapsfiksierolprent. So teen die middel van 2017 lê François ’n draaiboekverwerking van Die nag het net een oog aan die maatskappy voor. Hy moes dit heeltemal verwerk na ’n wetenskapsfiksiefliek en in November 2017 is dit  aanvaar.

Hy vertel aan Laetitia Pople (Volksblad, 20 November 2017) dat dit só glad nie in sy verwysingsraamwerk was nie dat hy glad nie op daardie skaal gedink het nie. "Hier in Suid-Afrika moet jy iemand ken voordat jy ’n voet in die deur kry, of iemand ken wat iemand ken. En ek ken niemand nie! Dit was dus nooit ’n opsie nie."

Double echo wat gegrond is op Doodskoot, is sy enigste vollengte draaiboek wat verfilm is. Hy het ook voorstelle gemaak en bydraes gelewer vir flieks soos Pad na jou hart, Vir altyd en Vir die voëls. Hy het ook die romans wat op die flieks gebaseer is, geskryf. Een van sy kortverhale is al in ’n kortfliek verwerk, maar nog niks op so ’n groot skaal nie.

"Ek skryf die soort boeke wat nie sommer plaaslike verfilm sal word nie, want dit verg ’n goeie begroting, al kan ek natuurlik 'daai soort draaiboekstories' ook skryf as iemand sou vra," het hy skertsend teenoor Pople opgemerk.

Oor die verskil tussen romanskryf en draaiboekskryf vertel hy aan Pople: "Ek laat dit nou baie elementêr klink, maar jy dink maar net visueel. Ek skryf in elk geval visueel, so dis nie veel van ’n aanpassing nie. In boeke het jy baie meer dialoog en 'verduidelikings', dikwels onnodig, maar in ’n fliek wys jy wat aangaan."

Na Die nag het net een oog volg Die duiwel se tuin (1993) wat in die Kaapse voorstad Durbanville (waar die skrywer woon) afspeel. Marlene, ’n onderwyseres, en haar seun Deon vind ’n nuwe tuiste in die voorstad Evergreen. Hulle word betrek by ’n duiwelse komplot waar niks is soos dit op die oog af lyk nie. Die motto voor in die boek lui: “If the past isn’t, then the present isn’t.”

Riana Barnard (Volksblad, 1 November 1993) skryf dat die hoofstukke in ooreenstemming hiermee retrochronologies ingedeel is – die afstand tussen teks en leser krimp met elke hoofstuk van verlede tot hede sodat albei in die slotmoment sekondes aftel. “Die verhaal skuif as ’t ware oor die werklikheid. As bevestiging word dié motto in die slot herhaal.” Sy meen dat Bloemhof met Die duiwel se tuin vir ons taal ’n toekoms losgeskryf het. “Want as hierdie verhaal jou nie aan die lees kry en lees hou nie ... Meer nog: dit laat jou holrug loop lank nadat jy dit neergesit het. Dit is ’n boek dié wat die mite van die vervelige Afrikaanse Boek grusaam nekomdraai.”

Volgens Riana Scheepers (Die Burger, 31 Augustus 1993) bevestig Bloemhof met hierdie roman sy talent vir die makabere en eksotiese verhaaltema. “In die stowwerige moot van die Afrikaanse literatuur het ons nie net humor nodig nie, ons het ook rillings en spoke en hekse en satangs nodig. Tot dusver was Bloemhof die antwoord daarop.”

Vir Lucas Malan (Rapport, 29 Augustus 1993) het Bloemhof die vermoë het om "sterk visueel te skryf en dat hy ’n besondere slag het om tonele op hoogspanningsoomblikke te laat stol: ’n tegniek wat die goeie riller kenmerk. Die sikliese struktuur van Bloemhof se verhaal verhoog hierdie spanningselement verhoog."

Met Koue soen in 1994 sit François sy voorkeur vir die bose ondergrond voort. Dit was ’n finalis in De Kat/Sanlam/Collage se romanwedstryd van 1993. Hier word die grieselige verhaal van twee verstrengelde familiegeskiedenisse (van die Strydoms en die Rabies) vertel. Die subtitel van die boek – “die dood en tye van die Strydom-Rabies” – verwys vooruit na die bose vloek wat die matriarge van hierdie twee families in ’n oomblik van redelose woede kies om oor mekaar uit te spreek. Dié bose vloek word bindend vir hulle en hulle kinders, tot in die hoeveelste geslag.

Tom Gouws (Beeld, 26 September 1994) skryf: "Die leser volg dus in die ontvouing van dié geskiedenis die voltrekking van die vloek in hierdie twee families – hul lewe kry byna net reliëf ten opsigte van hul verwagte sterftes. In die sage wat volg, word die karakters verdwerg deur die groeiende, nou herkenbare gestalte van die Bose ...”

Barrie Hough skryf in Insig van September 1994 dat Bloemhof die tradisionele plaasroman op ’n veel meer subtiele wyse via die riller ontluister. “Bloemhof gebruik die konvensies van nie net die plaasroman nie, maar ook die konvensies van die riller, die sprokie en die satire sodat Koue soen ’n wonderlik styl-potpourri is wat van begin tot einde vermaak. Melodrama, tragedie en komedie word byvoorbeeld in een van die karakters se sterwensoomblikke uiters doeltreffend vermeng wanneer ’n mens aflei dat die moordwapen ’n orgaan van sonderlinge dimensies is. Koue soen is ’n roman wat die literêre konvensies van hoe die roman behoort te lyk, deurmekaarkrap en heerlik ondermyn. Dit is iets waaraan die literêre puris heel moontlik sal stik.”

In Bloedbroer (1995) bly moord, maar ook verraad en seks, die hooftemas. Dirk en Werner, twee seuns uit die kinderhuis, word gelyk deur die boer Dieter Marx aangeneem. Marx het reeds ’n dogter, maar nie ’n seun nie. Dirk is die rebel wat die sagter, byna kleurlose Werner gaandeweg onderwerp en hom en sy suster om die beurt seksueel verlei, in ’n meedoënlose driehoek. Werner verraai egter sy broer en Dirk word op aanklag van bedrog in die tronk opgeneem. Met sy vrylating het hy net een doel voor oë – om wraak te neem op Werner.

Volgens Phil du Plessis (Die Burger, 26 Julie 1997) is Bloemhof se karakterisering skerp en ken hy die kuns om ’n mens te laat ril – lekkerder as in ’n fliek.

Met Storieboek, wat in 1996 verskyn, bewys François dat ’n mens hom as skrywer nie in kategorieë kan indeel nie. Altus Saayman word groot in ’n familie wat anders is. Sy pa, ma, sussie en Altus self beskik oor die een of ander towerkrag. Altus se gawe is om woorde werklikheid te laat word. Sy sussie kan haarself telkens in die vreemdste vorme laat verander. Telkens word Altus deur sy ma daaraan herinner dat hulle anders is as ander mense en dat ’n mens versigtig moet wees vir diegene wat nie ook vreemde gawes het nie. Storieboek is Altus se leeftog om tot ’n vergelyk te kom met sy gawe van verbeelding.

Bertie du Plessis (Rapport, 27 Oktober 1996) is van mening dat Storieboek een van die heerlikste romans is wat hy in ’n lang tyd onder oë gehad het. Dit is ’n storie wat hom weggeneem het na ’n land waar verbeelding en fantasie hoogty vier. Die leser kry net plesier uit die lees van hierdie boek.

JP Smuts (Oor skrywers en boeke – RSG – 27 Oktober 1996) meen dat Storieboek ’n besliste poging van Bloemhof is om weg te beweeg van die wêreld van die riller. “Daar is ’n duidelike monstering van tegnieke wat tipies is van die meer ernstige roman, maar gelukkig het Bloemhof nie in hierdie proses sy vermoë tot verbeelding verloor nie. Hy slaag daarin om ’n werk te skryf wat op eerste vlak toeganklik is en dikwels hoogs vermaaklik, maar wat terselfdertyd méér bied as vermaak. [...] Met Storieboek het Bloemhof ’n boek geskryf soos daar nog nie voorheen in Afrikaans was nie. Dit bring verdere groei en ook vernuwing binne sy oeuvre en skep positiewe verwagtinge omtrent wat hierdie vrugbare skrywer vorentoe gaan lewer.”

In 1996 beweeg François weg van die volwasse leser deur boeke vir die jeug te begin skryf. Human & Rousseau het gevoel dat daar nie genoeg rillers vir die jeug in Afrikaans is nie en hom genader om aanvanklik twee sulke boeke te skryf. ’n Riller-reeks vir die jonger leser verskyn en agt titels is reeds gepubliseer, beginnende met Die vrou met die pers oog en DonkerwoudDie wit huis word bekroon met die eerste prys in Kagiso/FNB se Literêre Wedstryd. Die waterdingKamer 13Die speletjie en Hospitaaltyd word almal bekroon met die ATKV-Kinderboekprys vir 10–12-jariges. Hy kon hom met die opdrag van die uitgewers vereenselwig, aangesien hy as kind self daarna gesmag het om rillers te lees. “Soos die meeste kinders het ek daarvan gehou om te skrik, al dink ek nóú Hansie en Grietjie is ’n walglike verhaal. Dis moeiliker om ’n riller vir kinders te skryf, want jy durf nie verby ’n sekere punt beweeg nie. Jy kan byvoorbeeld nie die ou se kop laat afkap nie.” (Die Burger, 28 Mei 1997)

Hy skryf ook ’n klompie stories vir kinders wat deur Juta Uitgewers in hulle reekse gepubliseer word, asook skoolhandboeke.

In 1997 verskyn die omstrede Slinger-slinger by Tafelberg Uitgewers, waarvoor François die Sanlamprys vir Jeuglektuur in die beginnerskategorie ontvang. Dit vertel die verhaal van Stephan en Derek, twee vriende aan die einde van hulle graad 11-jaar, wat soos altyd saam vakansie gaan hou op Suikerbosstrand. Maar hierdie keer is dit anders: die twee ding vir die eerste keer in ’n fietsren mee en Stephan raak verlief op die pragtige, moederlose Lisa Stassen met die streng pa.

Marina le Roux (Die Burger, 28 Mei 1997) skryf dat dit ’n vreemde tussenin-vakansie vir die jongmense is – “slingerend tussen kindwees en volwassenheid en verwar deur die uiterstes van ambivalente emosies en konflikterende sosiale norme en sedes. [...] Die jongmense en veral die twee hoofkarakters word gekonfronteer met uitdagende ontwikkelingstake tydens ’n spanningsvolle rites de passage, waarvan die belangrikste miskien die ontwikkeling van seksuele identiteit is. Vir die eerste keer in ’n Afrikaanse jeugboek (sedert Maretha Maartens se ’n Pot vol winter) word daar openlik oor tienerseks geskryf, maar anders as in Maartens se boek, noem François alles by die naam. Dit is ’n eerlike, onthutsende, byderwetse jeugboek wat beslis gewild sal wees."

In 1998 lê die ATKV die boek aan 13–15-jariges voor om in aanmerking te kom vir die ATKV-Kinderboekprys vir daardie ouderdom. Dit het ’n storm ontketen omdat ouers geglo het dat die boek nie geskik is vir kinders van daardie ouderdom nie. Na die omstredenheid het Tafelberg Uitgewers die boek onttrek van die leeslys vir die kinderboekprys.

François self was ontsteld dat sy boek aan laerskoolleerlinge voorgelê is vir beoordeling, omdat hy dit beslis nie vir daardie ouderdomsgroep geskryf het nie. “Ek probeer relevant skryf vir sewentien- en agtienjariges. My rol is nie om aan hulle ’n ideaal voor te hou nie, maar om my verhale so lewensgetrou moontlik te maak sodat lesers hulle daarmee kan vereenselwig.” (Beeld, 3 September 1998)

Hy stem nie saam dat ouer tieners net boeke vir volwassenes lees nie, maar besef hulle doen dit waarskynlik as hulle meen die trant van die jeugboeke is pedanties of neerbuigend. “Ouers voel ongemaklik as hul kinders meer van die lewe weet as wat hulle op dieselfde ouderdom geweet het. My oogmerk is om jong mense te verseker hulle is nie die enigste wat met dié probleme worstel nie, eerder as om dit te laat lyk asof oplossings maklik is.”

Van die ouers en die tieners wat Slinger-slinger gelees het, het egter gemeen dat die storie baie realisties uitgebeeld is en dat dit is hoe en waaroor tieners praat.

Met Mooidraai Basuin in 1997 kom François weer eens vorendag met iets heeltemal nuut, maar steeds met sy kenmerkende styl wat dit volgens Herman Wasserman (Die Burger, 28 Mei 1997) aanklank sal laat vind onder sowel lesers wat net afleiding soek as diegene wat oop is vir intelligente kommentaar. "Dit is in die formaat van ’n populêre, effens outydse tydskrif en bevat ’n aantal verhale wat hoofsaaklik op ’n plattelandse dorpie afspeel. Maar die verhale is deel van ’n collage bydraes wat ’n mens gewoonlik in ’n tydskrif sou vind – grapstrokies, wedstryde, sterrevoorspellings en selfs ’n fotoverhaal. Dit lees dus soos ’n strooitydskrif, vol skindernuus en pret, maar die aweregsheid wat ’n kenmerk van Bloemhof se rillers is, is ook hier aan die werk. Binne die oënskynlike ligte gegewe word met behulp van slim humor en veral woordspelings gesatiriseer, gespot en kommentaar gelewer.”

Nagbesoeker (1997) het getoon dat François nog nie vergeet het hoe om ’n suksesvolle riller te skryf nie. Twee jong meisies word op Disabaai vermoor en een se suster, Estelle, wat ’n opkomende model is, kom huis toe om haar suster te begrawe. Sy raak verlief op Alan, die pragtige jong man wat saam met sy ma bly. Haar skoolkys, ’n valerige fotograaf, is ook daar vir die begrafnis. Die derde man in die storie is ’n verwarde skoolseun wat adolessensie pynlik ervaar. ’n Derde moord is onafwendbaar – die vraag is net wanneer, wie en wie die moordenaar is.

Gretel Wybenga (Beeld, 24 November 1997) skryf as volg oor Nagbesoeker: "Die outeur flankeer ook hier met allerlei postmoderne idees: Die verteller betrek die leser in die teks: daar word geïmpliseer dat die werklike lewe van ’n doodgewone mens voor hy dood is tot legende omgetoor word, dus gefiksionaliseer word.”

Hilda Grobler (Vrydag, 31 Oktober 1997) meen dat Nagbesoeker weer eens bevestig dat Bloemhof ’n besonder begaafde storieverteller is.

In 1998 kom François weer met ’n nuutjie vorendag: Hostis (Latyn vir “vyand”) word gepubliseer saam met ’n CD met oorspronklike musiek en ’n klankbaan deur die skrywer self. Dit vertel die storie van ’n driehoeksverhouding waar twee mans dieselfde vrou bemin. François neem die basiese gegewe en transponeer dit telkens na ’n ander historiese tyd: Parys voor die Franse revolusie, Praag in die begin van die 19de eeu, Afrika in die 20ste eeu.

HP van Coller skryf in Volksblad van 8 Maart 1999 dat hoewel die karakters telkens van identiteit verander, iets van ’n patroonmatige gedetermineerdheid behoue bly: “Dis nie net asof die karakters en hul drange deur al hul historiese transformasie lewend bly nie, maar dat dit gevoed word deur die langdurige wraak van die oorspronklike bedroëne. Dit is nie ’n blote foefie nie, maar ’n eksperiment wat getuig van ’n kreatiewe gees waarvoor die Afrikaanse literatuur dankbaar kan wees."

Met Klipgooi (1999) gebruik François volgens Cas van Rensburg (Beeld, 8 November 1999) dieselfde tegniek as wat William Faulkner in As I lay dying gebruik het. "In Faulkner se boek vertel vyftien karakters die storie van ’n vloed en ’n brand soos elkeen dit ervaar het, terwyl ’n vrou op sterwe lê. In Klipgooi bring veertien karakters op die dorp Klipgooi elkeen deur sy of haar ervaring van die gebeure van Vrydag 19 Augustus 1983 tot Sondag die 21ste ’n stukkie van die legkaart om ’n verhaal te voltooi met ’n heerlik onverwagte einde," aldus Van Rensburg.

François se volgende jeugboek, Die dae toe ek Elvis was, word in 2000 gepubliseer. Die bekendstelling van Elvis by die KKNK in 2000 het saamgeval met ’n rockvertoning deur Jacques du Preez van die TV-program Geraas. Dit vertel die verhaal van CJ wat twee passies in die lewe het: Elvis Presley en Charmaine. Hy het ook ’n ma wat vir hom meer as een keer ’n verleentheid is, maar wat hy ook met passie verdedig as dit moet. Dit is ook ’n riller met ’n reeksmoordenaar wat sy verskyning maak.

Volgens Barrie Hough (Rapport, 29 Oktober 2000) is dit François se "beste jeugboek tot op daardie stadium. Hy kan in tieners se koppe inklim en met hulle kommunikeer en hulle slang gebruik sonder dat dit gedwonge voorkom." Vir Cas van Rensburg (Volksblad, 21 Augustus 2000) was dit ’n ontstellende boek wat diep sny. 

Die dae toe ek Elvis was word in 2005 en 2006 herdruk. François het die boek tot ’n verhoogteks verwerk wat in 2008 by die Suidoosterfees opgevoer is met Marthinus Basson as regisseur en baie goed deur resensente ontvang is.

Met die publikasie van ’n Tweede asem vir Jan A in 2001 skryf Fanie Olivier (Beeld, 18 Maart 2002) dat dit, nes van François se ander boeke, getipeer word deur gewone mense wat afgryslike dinge ervaar wanneer hulle gekonfronteer word met gewone dinge wat verkeerd loop. “Daarna loop hulle dan nog verder die verskrikking van die buitengewone of bonatuurlike op die lyf. En dit alles in goeie, stewige Afrikaans wat wéét dat sukses nie gemeet word aan die gewaande voorskriftelikheid rondom populêre of ‘omgangstaal’ nie. Ook daarvoor moet Afrikaans vir François Bloemhof dankbaar wees.” 

’n Tweede asem vir Jan A vertel die storie van die suksesvolle versekeringsmous Jan Ackerman – ’n gesinsman, lief vir sy vrou, Maret, en sy tienerseun en dogter. Een oggend terwyl hy draf, word hy deur ’n rooikopvrou in ’n rooi vuurwa “des moers” getrap. Hy beland in die hospitaal en na die ongeluk begin die krake in die ordelikheid van die Ackerman-gesin wys.

Volgens Mathilda Smith (Volksblad, 31 Desember 2001) skryf Bloemhof ’n verhaal wat vrae vra en nie antwoorde gee nie. "Die verhaal is kompleks en laat die leser wonder ... waar alles begin en eindig. Of waar jy dink alles begin of eindig. [...] Ons het hier aksie en seks, maar ook ’n diep intellektuele verhaal wat op verskillende vlakke gelees kan word sodat Jan en alleman dit kan geniet, maar wat ook die intellektueel en die ingewyde letterkundige diep nadenkend laat.”

Op ’n vraag van Francois Smith (Beeld, 14 Desember 2001) of hy met Jan A ’n doelbewuste balans tussen spanningsverhaal en letterkunde wou bereik, antwoord hy: “Hoe kan ’n Afrikaanse spanningskrywer ooit ’n ernstige skrywer wil wees ... Ek weet dis nie ’n gewilde siening nie, maar ek het nog altyd gedink goeie spanningsverhale ís letterkunde. Net omdat iets jou kan meevoer, beteken nie daar’s fout daarmee nie. Aan die ander kant, as ons Afrikaans is en iets geniet, kan dit mos nie ‘goed’ wees nie ... Ja, ek is ernstig oor my skryfwerk, want ek kry nie end daarmee nie – ek verstaan waar die vooroordeel vandaan kom. Daar was al soveel vrot rillerflieks dat die genre ’n slegte naam gekry het.”

François vertel aan Sarie: "Die karakterisering in hierdie roman moes sterker wees as in my ander romans aangesien die boek handel oor hoe ’n man se persoonlikheid deur eksterne faktore gemanipuleer word en dat as die lesers nie in hom as mens glo nie, dit hulle nie gaan traak wat van hom geword het nie."

Oor die seks in die verhaal vertel François dat hy nog nooit in sy boeke van seks weggeskram het nie – as hy gevoel het dit is nodig. “Seks is deel van die lewe, dis trouens die begin daarvan as ek mooi onthou. As die storie vir my sê dit moet in, dan moet dit. Ja, dis ’n rowwe boek, maar mans het meer as net ’n verbygaande belangstelling in seks. Van die twee mans in die boek is die een amper veertig en die ander ’n tienerseun – veral dié twee kategorieë het ’n ding oor die groot S, en  as jy oor hulle wil skryf en daardie aspek vermy, gaan jy nooit driedimensionele karakters geskep kry nie.” (Sarie, 23 Januarie 2002)

In 2005 is François die wenner van die Goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur vir sy boek Nie vir kinders nie. Dit vertel die verhaal van Tim  Marais, ’n seun op die vooraand van matriek, wat met dwelms en sekswerk deurmekaar raak. Oor waar hy die idee vir die storie gekry het, antwoord hy dat hy net oplet na wat om hom aangaan. “'Die oudste beroep ter wêreld’ gaan van krag tot krag – en sekswerkers raak al hoe jonger. Buitendien is dit ’n verouderde siening dat net meisies in die beroep beland. Ek dink nie dat dit ’n skokkende boek is nie, maar dit kan vir party mense skokkend wees omdat die onderwerp in ’n fiktiewe werk gehanteer word en nie in ’n maatskaplike verslag nie. En dat ek mét tieners praat en nie net óór hulle nie.” (Volksblad, 16 September 2005)

Willemien Marais (Volksblad, 21 November 2005) beskou Bloemhof as ’n ervare skrywer wat moeiteloos skryf. Die leser sit nooit met die gevoel dat hy “probeer” om vir tieners te skryf nie. “Dit is ’n boeiende verhaal waarvan die gegewe – dié van ’n tiener as manlike prostituut – beslis ’n nuwe vir Afrikaans is.”
Op ’n vraag van Arnold Vermaak (Die Burger, 4 Augustus 2005) oor die suiwer taalgebruik in Nie vir kinders nie sê François dat dit ’n cliché is dat as jy ’n boek vir tieners skryf, elke vyfde woord ’n Engelse een moet wees. “Dis ’n lui gewoonte en hoe meer skrywers dié maklike uitweg kies, hoe minder van ’n styl is dit. Enigeen kan dit doen. Te veel vloekwoorde ook – voordat jy jou kom kry, probeer jy te hard.”

François glo dat jeugkarakters in boeke moet doen en dink wat vandag se tieners doen en dink. “Nie alle skrywers gaan kans sien daarvoor nie – mens kan bang wees dat ander volwassenes sleg gaan dink van jou as jy reguit praat, maar die jeugboek kan nie meer die utopie wees waarin die werklikheid geïgnoreer word nie. Die dae toe intrige bestaan het uit kleilat gooi, poetse bak en perskes in die dominees se agterplaas steel, is verby. Trompie en Saartjie is nou ’n ou omie en tannie – lekker, maar vir doerie tyd. ’n Geloofwaardige uitbeelding van jongmense se leefwêreld is belangrik.”

Vanaf 2002 is François ook verantwoordelik vir die eerste prenteverhaal in Afrikaans wat met die vertaalde Tintin- en Asterix-reekse kan meeding. Hy skryf die teks van die Agent Snoet-reeks en Alistair Ackerman is verantwoordelik vir die illustrasies in hierdie verhale oor Agent Snoet en sy troeteldier Felino, die Siamese kat. Felino is eintlik die slim een sonder wie se hulp die arme Agent Snoet nie kan klaarkom nie. Die eerste titel is Agent Snoet en die botterdiamant, die tweede Agent Snoet en die kattekwaad en die derde Agent Snoet en die hondelewe. Vir die eerste een het François ’n CP Hoogenhout-vermelding ontvang. In 2010 volg Agent Snoet en die Groen Genugtig en in 2016 Agent Snoet en die windlawaai. In 2018 is die vyf titels in ’n omnibus uitgegee.

Oor die omnibus van Agent Snoet (2018) vertel François aan Laetitia Pople (Volksblad, 4 Junie 2018): "Dit laat jou spin van plesier. Die vyf só saam verteenwoordig jare en jare se dink en werk, hoewel ek en die kunstenaar Alistair Ackermann darem tussendeur lang blaaskanse gevat het. Dis goed om die omnibus te kan oopmaak en nog só baie te hou van wat ek daar sien!"

Oor die ontstaan van Agent Snoet en Felino: "Ek was nog altyd dol oor strokies en kon skaars glo daar was nog nie so iets in Afrikaans nie. Dit was dus my plig én plesier om vir on lesers so iets in ons eie taal te gee. Natuurlik is dit ook baie opwindend om beelde in jou kop so te sien vorm kry, en selfs beter was wat jy verwag het.

"Dit spreek tot die kind in my. Daar is beslis genoeg aksie en  geheime en humor om enige jong leser te vermaak, maar ek het geskryf wat ék graag op ’n boekrak sou wou sien toe ek jonger was. En ja, ouer lesers mag ook maar daarvan hou. Dis sommer bog, hierdie ding dat ouer lesers net ernstig moet wees." 

Oor die samewerking tussen hom en Alistair Ackermann verduidelik François aan Pople hoe dit werk: "Ek ontwikkel die stories en deel dit in ’n paar raampies per bladsy op: Wat gebeur, wie sê wat, ensovoorts. Met die eerste boek was ek nogal rigied dat dit presies moes werk soos ek dit uitgelê het, maar toe kon ek al sien hoe Alistair met klein besonderhede groot waarde toevoeg. Ons het teen die tweede boek al só eenders begin redeneer, en sy idees was só goed, dat ek hom al meer self wou laat interpreteer. Ek probeer nou aan een ding dink waaroor ons verskil het, en kan nie!"

François het ’n besondere liefde vir katte. So dit was dus nie snaaks dat hy ’n strokiesprent met ’n kat in die hoofrol en nog ander katte in kleiner rolle geskep het nie. Hy verduidelik aan Laetitia Pople hierdie hele "kat-ding": "Ek het in daardie stadium ’n kat met die naam Felino gehad, afgelei van die Engelse woord feline. As jy in jou eie huis gebuk gaan onder ’n Siamese kat se nukke en grille, hoef jy nie ver te soek na ’n eksentrieke, baasspelerige karakter vir jou speurstrokie nie. Ek het bloot vir Alistair foto's van die kat gegee waarop die kat se voorkoms gegrond is. Dit het meer dinkwerk geverg om te besluit hoe Agent Snoet moet lyk."

Oor die menslik eienskappe wat hy aan die katte in die strokie gegee het, vertel François aan Pole dat dit vir hom humoristies is om dit te doen en in die tweede plek is elke persoon wat katte het, bewus daarvan dat dit eintlik die kat is wat sy baas besit. "En katte het duur smaak: hulle sal altyd op die duurste tapyt opgooi. My vier katte voer beslis lang gesprekke met my en dis maar goed dat ek te dom is om dit te verstaan."

Felino is ook nie baie beïndruk met Agent Snoet se speurvernuf nie, bloot omdat mense nie kan kompeteer met ’n Siamese kat se intellek nie.

In 2011 is Agent Snoet en die hondelewe vir die verhoog verwerk. Dit was die eerste aksie-musiekspel in Afrikaans en het die land vol getoer. Die rol van Agent Snoet is vertolk deur Danie Putter en Eloise Clasen was sy speurkat Felino. Die regisseur was Lizz Meiring.

Hy vertel dat hy sy boeke vir jonger kinders vir homself skryf, toe hy daardie ouderdom was. “Dit is die boeke wat ek graag sou wou lees. Hou ouer ’n mens word, hoe moeiliker is dit om jou in die skoene van ’n kind te verplaas. Gelukkig is daar mense soos redakteurs by die uitgewery wat gou vir jou sê wanneer iets nie werk nie.”

Die eerste vrouespeurder-in-’n-boek, sersant Alma van der Pool, maak haar opwagting in Spinnerak (2006).  Hier is sy op die spoor van ’n reeksmoordenaar wat vroue teiken. Vir Eduan Maggo (Die Burger, 29 Januarie 2007) word die eeue-oue stryd tussen kwaad en goed in Spinnerak voortgesit, maar dit beteken nie dat die goeie altyd so goed is nie en die bose dalk ook nie so sleg nie. "En juis dié dinamiek dra by tot die realisme van die verhaal en sorg vir daardie ekstra tikkie spanning."

In 2007 is Alma van der Pool terug in Jagseisoen, waarin sy die saak van ontvoerde hoërskoolleerlinge moet oplos. Haar persoonlike lewe as ’n geskeide vrou en enkelouer maak egter inbreuk op die saak en kompliseer haar taak.

Hy het ’n vrou as sy speurder gekies omdat hy wou afwyk van die gewone en alledaagse patroon van ’n sterk manlike speurder. "Die wêreld van die speurder is plaaslik beskou as die terrein van die man, sodat dit al ’n seksistiese cliché geword het. Alma van der Pool het nie beperkinge gehad nie. Ek glo ’n vrou kan basies dieselfde dinge as ’n man doen, met die voordeel dat sy dalk onderskat word, ook deur manlike kollegas.

"Mense is geneig om vroue te onderskat, ook in die polisiediens. Maar ek het my drie boeke in die reeks darem ook nie as ’n feministiese beweging gesien nie – dis ’n feminis se plek om so iets te skryf. Dit was net lekker om vooropvattings op meer as een front reg te stel, en die groot voordeel was dat dit ’n nuwe terrein was en ek doen wat ek wou," vertel François aan Org Potgieter (Die Burger, 13 Oktober 2012).

Pieter Schuurman (Volksblad, 31 Januarie 2008) beskou Jagseisoen as ’n heerlike boek vir enigiemand op soek na vermaak en meen dat Bloemhof vir oorgenoeg opwinding, aksie en drama sorg. Volgens Jaybee Roux (Beeld, 13 Mei 2008) is die storie boeiend en merendeels oortuigend geskryf, terwyl Bloemhof se gebruik van die taal vars en raak is en eerder gemik is op die gewone leser en nie op die taalkenners nie.

Met Jagseisoen word dit weer bevestig hoe Bloemhof met sy lesers se koppe smous. Hy slaag baie goed daarin om die spanning geleidelik te laat opbou soos die geheime ontvou, skryf Fanie Viljoen (LitNet). Vir Viljoen is dit weer eens ’n bewys dat François een van ons uitstaande spanningskrywers is.

 In 2009 is Alma van der Pool weer op die toneel in Harde woorde, waar sy ingeroep word deur die enigste manlike skrywer van Afrikaanse liefdesverhale, Cor Esterhuyse, om ’n reeks sinistere gebeurtenisse te ondersoek. Stoffel Cilliers (Beeld, 12 mei 2009) het gesukkel om hierdie roman neer te sit aangesien dit "oorspronklik-gekonsipieerd en knap-gestruktureerd" is. Die leser kom ook onder die indruk van die moeite wat die skrywer gedoen het met die beplanning van die verhaallyn.

Vir Aardklop in 2006 slaan hy sy hand die eerste keer aan ’n kabaret. Dis getitel Die wêreld wil weet en het as tema werklikheidstelevisie en die prys van roem, asook die verbygaande aard daarvan. François self is nie ’n kyker van dié tipe televisie nie, maar die feit dat party mense enigiets sal doen en sal prysgee om kitsroem te verwerf, interesseer hom. Hierdie produksie voldoen volgens hom aan die klassieke vereistes van ’n kabaret deurdat dit nie net ’n string liedjies is nie. Hy stem saam met die outydse skeppers van kabaret dat jy kommentaar moet lewer, skerpsinnig moet wees en moet satiriseer, en dat jy mense moet laat dink. “Jy kan nie net ’n rokerige verhoog hê, vir die  vrou ’n hardebolkeil gee en haar vra om hees te sing, en dan het jy ’n kabaret nie.” (Beeld, 28 September 2006)

Hy het self die liedjies geskryf en Hennie en Maria van der Merwe van Wellington het die notering gedoen nadat François dit vir hulle gesing het. Hy was glad nie betrokke by die regie en produksie van die kabaret nie en het alles in die hande gelaat van Gaerin Hauptfleisch, die regisseur, en die spelers.

In 2008 word die eerste boek in Die Rooi Luiperd-reeks gepubliseer. Dit is ’n huldeblyk aan die 100ste herdenking van Ian Fleming, die skrywer van die James Bond-reeks. Hy probeer ’n Afrikaanse James Bond skep. Die Rooi Luiperd, die geheime agent, is dood en hy was deel van die Groot Vyf, die top-agente in Suid-Afrika se eie CIA. Hulle kies dus twee agente om die raaisel van die Rooi Luiperd op te los. Die tweede in hierdie reeks, Afspraak in Venesië, word in 2009 gepubliseer. Verdere titels in hierdie reeks is Die genesis-faktor (2010) en Helse manier van koebaai sê (2011).

Enkele uitsprake deur resensente oor Die Rooi Luiperd-reeks is as volg:

  • "Dit is ’n Bloemhof-boek dié en die aksie verskuif blitsig van eetsaal na operasiesaal, van motorboot na helikopter, van spreekkamer na hotelkamer. Die skrywer, ’n stilis by uitstek, wissel gemaklik van lang, vloeiende na kort, dramatiese sinne. Al het Bloemhof met hierdie roman (Afspraak in Venesië) swak weggespring, het hy danksy sy ervaring en veelsydigheid die wenpaal met ’n knap eindpoging gehaal." (Stoffel Cilliers, Beeld, 5 Oktober 2009)
  • "Wat die boek (Die Genesis-faktor) veral lesenswaardig maak, is om te ervaar hoe maklik die menslike psige die slagveld kan word van bose magte wat geen norme of grense eerbiedig nie. Dit gee aan hierdie opwindende Rooi Luiperd-boek, wat aan al die gewone spanningsverhaalvereistes voldoen, ’n verrassend nuwe dimensie." (Stoffel Cilliers, Volksblad, 13 November 2010)
  • Al is die boek (Helse manier van koebaai sê) deel van ’n reeks, staan hy sterk genoeg op sy eie vir diegene wat nie die voriges gelees het nie. En lesers wat nou vir die eerste keer met die Rooi Luiperd kennis maak, kry dalk net lus vir dié boek se voorlopers. Soos Koos Kombuis sê: 'Dis blerrie goeie entertainment!'" (Moira Richards, Rapport, 20 November 2011)

In 2010 verskyn Die onbekendes by LAPA Uitgewers. Hierdie is egter nie François Bloemhof se gewone misdaadriller nie, maar dit behoort eerder in die "newelwêreld tussen sielkundige riller en ware gruverhaal", soos Dirk Jordaan dit beskryf in Beeld van 26 April 2010.

Die onbekendes vertel die storie van Louise wat ’n joernalis is. Haar lewe is goed georganiseer, maar haar lewe het ook ’n donker kant. En dan begin haar wêreld rondom haar ineenstort.

Dirk Jordaan beskryf dit verder: "Dit is ’n verhaal deur ’n skitterende storieverteller, gemik op volwassenes, oor die stelselmatige sielkundige aftakeling van ’n jong vrou. ’n Verhaal oor seksuele ontrouheid, vrees en die mens se kapasiteit vir geweld, maar ook vir oorlewing. Genoeg gesê. Meer durf ons nie verklap nie. Maar weet dit: Moenie Die onbekendes lees vir 'ont'-spanning nie!"

In Volksblad van 19 Junie 2010 sluit Stoffel Cilliers sy resensie as volg af: "In watter wêreld François Bloemhof hierdie werklik knap geskrewe spanningsroman ook al gaan haal het, dit kan gerus ontvang word as een van sy voortreflikstes."

François slaag daarin om die een uitstekende roman na die ander te skryf. In 2013 word Moord in die beloofde land by Human & Rousseau gepubliseer. Wat vir Riette Rust (LitNet) bygebly het, is die "diggeweefde storielyn". "Nes jy dink jy het al die drade bymekaar, is daar nog (skokkende) verrassings."

Die agtergrond van die verhaal is die 20 jaar tussen die 1970's en die 1990's. Die Smit-gesin is die middelpunt van die verhaal. Die pa is ’n mediese dokter, die ma ’n huisvrou en daar is ook twee seuns. Die een seun is Samuel, die hoofkarakter, en sy seksuele ontwaking en geestelike volwassewording word deernisvol geteken. Hy begin later obsessioneel in die skermoordenaar, Marlene Lehnberg, belangstel en só word sy deel van Samuel se seksuele fantasieë.

Die skrywer slaag goed daarin om die agtergrond van die 1980's en 1990's te herskep en die leser met nostalgie te vervul, skryf Riette Rust. "Dit was die tyd van inryteaters, TV-reekse soos Vyfster, skouerkussings, Phil Collins se St Elmo's fire. Maar ook van afgryslike rassisme en moord (op die grens). Moord in die beloofde land is ’n spanningsverhaal en familiesage met genoeg elemente van die tipiese gruwelverhaal. Meisies word summier afgemaai. Een se hand word elders opgetel. En ’n gesig word oopgekloof tot die agtertande sigbaar is. Sjoe! Wie’s hiervoor verantwoordelik? Die antwoord is nie een wat maklik voorspel kan word nie ... (...)

"Die bose magte, oftewel die pikswart ondertoon wat heeltyd onderliggend is, sorg vir ’n surrealistiese kinkel waarvan Samuel teen wil en dank deel word. Dis verrassend en lekker om te lees. Trouens, Moord in die beloofde land is ’n boek wat jy in een sit sal wil deurlees. En moontlik sal wil herlees. Maar - as jy die roman wil aanskaf, moet jy nie sensitief wees vir geweldtonele of vir kokende seks nie."

Landbouweekblad (9 Augustus 2013) wou by François weet wat die grootste uitdaging vir hom was met die skryf van Moord in die beloofde land. Dit was al die navorsing wat hy moes doen aangesien die boek vanaf 1973 tot 1994 afspeel. "Die probleem is dat min skrywers wat ’n klomp navorsing doen, die versoeking kan weerstaan om álles in te sit ... Dan lê al die gegewens soos ’n berg in die pad van die arme storie. Ek wou seker maak die gebeure bly op die voorgrond en al daardie interessante feite verryk dit, maar verdring dit nie. Verder, omdat dit nie net ’n spanningsverhaal is nie, maar ook ’n familiesage met die Suid-Afrika van soveel jare gelede as agtergrond, moes ek seker maak daar is ’n balans tussen al die elemente."

Ook Johan Smith was beïndruk met Moord in die beloofde land (Rapport, 28 Julie 2013). Dit lees maklik en vinnig, maar hy sal dit nie vir kinders aanbeveel nie, net vir volwassenes aangesien daar heelwat sekstonele en growwe taalgebruik is.

"Die titel van die boek laat ’n mens dink aan ’n politieke drama. Gelukkig is dit nie, maar wat in hierdie beloofde land gebeur, is veel meer as moord en het veel meer om die lyf ..."

In 2014 publiseer Human & Rousseau Die vierde stem. Die roman draai rondom ’n paar weke in die lewe van vier karakters, naamlik Annemi, ’n kantoorwerker; Manrich, ’n manipulerende sielkundige; die naamlose skrywer, maar wat later een word met die skrywer van die roman en dan die geheimsinnige vierde stem.

Vir Louise Ferreira (Beeld, 16 Februarie 2015) het Bloemhof hier misgetas. "Die idee agter die roman, vermoed ek, is om die menslike bewussyn – en die onderbewussyn se donker geheime – te verken. Daar is egter soveel selfvoldane verbale masturbasie dat hierdie belowende premis verlore gaan."

In Rapport (25 Januarie 2015) skryf Herman Lategan dat daar niks verkeerd is met die skrywer se verbeelding of sy vermoë om intrige te skep nie. "Dit is net jammer dat die styl en timbre van die woorde soos ’n pap hart sonder gô en pê klop. Tyd vir sokkies optrek."

François begewe hom in ’n heel ander genre toe hy in 2013 die draaiboek van die fliek Pad na jou hart (met Ivan Botha en Donnalee Roberts) in ’n roman omskep het. Vir hom was dit ’n groot uitdaging, erken hy aan Karin Burger (Rapport, 10 November 2013). "Dit gebeur min genoeg dat daar dieselfde fliek én boek is, nou het ons dit boonop andersom gemaak deur van ’n draaiboek ’n boek te maak. Vir my was die lekkerte daarvan dat ek self kon besluit wat die karakters dink. Die draaiboek was die riglyn, maar ek kon uitbrei en byvoeg."

In 2015 het François dieselfde met Vir altyd gedoen en het JB Roux geskryf dat daar vir François ’n "blinknuwe toekoms as liefdesverhaalskrywer voorlê." (Rapport, 10 Januarie 2016)

Ook Dewald Koen (Volksblad, 2 November 2015) was gaande oor Vir altyd. "Net soos in Pad na jou hart slaag Bloemhof daarin om die slot so onvoorspelbaar as moontlik te laat, wat die leser tot en met die laaste sin boei. Vir altyd is ongetwyfeld een van die mees opwindende liefdesromans wat ek in ’n wyle gelees het."

François se volgende spanningsverhaal is Doodskoot wat in 2016 by Penguin verskyn. Dit is sy 24ste roman vir volwassenes en vertel die storie van Paul wat op die plaas Welverdiend van Bernard Ackerman naby Riebeek-Kasteel beland en betrek word by die familie-intriges. Lani, Bernard se jong dogter, word ontvoer en Paul en Michelle, Bernard se vriendin, (wat in ’n seksuele verhouding met Paul betrokke is) moet die losprys betaal.

François vertel aan Org Potgieter op LitNet meer oor Doodskoot: "Dit is in die styl van die film noir van die 1940's en vyftigerjare geskryf is. Daar is ’n held met probleme en ’n vrou met baie planne wat net tot verdriet kan lei – en die spanning loop op. Anders as daardie outydse flieks, speel dit plaaslik af, op Riebeek-Kasteel, met moderne karakters en situasies wat hedendaagse eise aan hulle stel. Die mense kry swaar, maar hulle wou mos!"

Riaan Grobler (Beeld, 26 September 2016) kon die ontknoping aan die einde glad nie voorsien nie. "Trouens, ek was oortuig ek weet wie die uiteindelike skuldige is, maar Bloemhof het sy strik goed gestel. Sy skryfstyl is gemaklik – soveel so dat ek in ’n stadium gewonder het of dit nie te gemaklik is nie. Maar hoe verder ’n mens lees en meer daaraan gewoond raak, hoe lekkerder val sy toon en styl op die oog."

Daar was ’n paar goedjies in die verhaal wat vir Grobler gepla het, maar dit doen nie afbreuk aan die feit dat Doodskoot lekker lees nie – "dit bied meer as genoeg vir ’n genotvolle en bevredigende leeservaring."

Vir Deborah Steinmair (Rapport van 16 Oktober 2016) is Doodskoot ’n storie wat die leser vervul met dodelike leesgenot. "Die leser word verplaas soos in ’n ou moewie; begogel, verlei, verlok, ontnugter en enduit geboei."

Francois gesels in 2016 met Naomi Meyer op LitNet oor sy verwerking van die draaiboek van Vir die voëls.

Die film Vir die voëls is gegrond op ’n kortverhaal, "Slim vang sy baas" wat Irma Humpel geskryf het vir ’n leserswedstryd waarin gesoek is na ’n draaiboek om die 100ste bestaansjaar van Huisgenoot te vier. Die storie gaan oor Irma en Sampie de Klerk van Newcastle se liefdesverhaal.

Hierna was dit François se beurt om die storie nog verder te verwerk tot ’n roman. Hy vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat hy toe telefoontjie gespeel het: "Een van die redes waarom ek betrokke wou wees, is omdat die storie reeds een maal verwerk is, en toe kon ek dit verder verwerk. So iets sal seker vir enige skrywer interessant wees, veral as dit ’n sterk storie was om mee te begin. Soos met telefoontjie speel, verander die storie elke keer as daar nog ’n verteller bykom. Nóg my weergawe nóg die filmmakers s’n is 'die volle waarheid' en ek skat ek het die meeste van almal gejok ..."

Hy het nie probeer om naby aan die werklikheid te bly nie en het in die voorwoord genoem dat "verbeelding en vryheid met die karakterisering ’n groot rol gespeel het. Die storie het in my kop anders vorm gekry as hoe situasies regtig destyds uitgespeel het; dit is noodwendig so. Ek het beslis ook ander woorde in die mense se monde én ander gedagtes en oorwegings in hulle koppe geplaas as wat regtig by hulle opgekom het. Ek het eers met Irma de Klerk kontak gemaak nadat die manuskrip rofweg klaar was, want ek was bang sy beïnvloed my interpretasie van die karakter as ek vroeër met haar praat. Toe gesels ons so lekker dat ons nou nog gesels!"

In haar onderhoud met François noem Naomi Meyer dat François se eerste sin van die roman ("Elke mens is eintlik ’n ry mense. ’n Klomp wat agter jou aan tou: vooraan is die jy van hier en nou, en dan al die ander, jonger jye wat jou tot hier gebring het.") haar laat dink het aan babushka-poppe wat hy uitmekaar gehaal het en na elke een gekyk het. Sy wou weet wat hy gesien het. "Hoe meer fasette hoe dieper jy daarop ingaan. ’n Mens kan dieselfde sê van die storie wat Irma na Huisgenoot gestuur het, waarmee sy die kompetisie gewen het wat tot die rolprent aanleiding gegee het. Dit was reeds ’n opsomming, en dus ’n interpretasie van die werklike gebeure, wat ander mense op ander maniere sal onthou. Toe kom daar ’n draaiboekskrywer by, en later was daar drie van hulle, en uiteindelik is die negende weergawe van die draaiboek verfilm. Daar is lae op lae in die storie, nes daar is in ons almal se lewens, maar waarby ek in elke stadium wou uitkom, is wat in die karakters se koppe aangaan. Dis natuurlik een van die voordele van ’n roman – ’n rolprent wen veld as dit kom by beelde en gepaardgaande musiek, maar ek kon sterker vorm gee aan karakters se persoonlikhede. Mense verander ook natuurlik na aanleiding van wat met hulle gebeur; in die boek gebeur daar baie dinge met Irma en Sampie wat hulle help vorm."

Oor die titel verduidelik François aan Meyer dat hy dit in die boek anders gebruik het as wat dit in die rolprent gebruik is. In die boek vertel Irma se ma haar dat liefde vir die voëls is. "Natuurlik is dit ’n groot struikelblok vir ’n jongman as die meisie wat hy in die oog het nog altyd só geredeneer het. Op letterlike vlak het Irma ’n groot belangstelling in voëls, wat ruimte gelaat het vir ’n bietjie lekker simboliek oor hoe mense mekaar soms soos die verskillende voëlspesies kan behandel. Dit is ook sommer net ’n lekker titel! Al het ek dit nie self uitgedink nie, het ek dadelik geweet ek sal nie omgee om dit op ’n boek van my se voorblad te sien nie."

François se nuutste boek vir volwassenes is Dieretuin wat in 2017 by Imbali Akademies verskyn het. Een van die redes hoekom dit vir Riette Rust (Volksblad, 11 Desember 2017) een van die opwindendste spanningsverhale van die jaar is, is dat die aksent hier val op die karakters en hul misdade en nie op die speurder wat hierdie misdade moet oplos nie.

Carl Lourens gaan na Durbanville om sy jonger broer uit "Die Dieretuin" te gaan red. Hierdie "Dieretuin" bestaan uit Maxie Tredoux, die matriarg, haar seun Leo en haar dogter Mandie.

In die storie word sekere onderwerpe soos bloedskande kaalvuis behandel en van die moorde word baie grafies beskryf. Riette Rust meen dat dit party lesers kan skok terwyl dit ander weer in voeling met hul donker kant sal bring.

"Dieretuin is vernuftig gestruktureer. Nie eens ’n gesoute misdaadskrywer sal die ontknoping kan voorspel nie. Dié roman is egter net vir hardebaardlesers. As jy een is, lê ’n begogelende ervaring vir jou voor."

François se veelsydigheid as skrywer word bewys deur die feit dat sy eerste radiodrama, Sê-my-alles, die wenner vir beginners in die SAUK se radiodrama-wedstryd was en in 2004 uitgesaai is. Dit besorg in 2005 ’n ATKV-veertjie vir die regisseur Johan Rademan. In 2009 word sy Susters en skandes saans op RSG uitgesaai as ’n Afrikaanse sepie oor die radio. Die regisseur is Bettie Kemp en dit vertel die verhaal van twee susters, Magdaleen en Rika, wat saam met hulle gesinne op die platteland bly. Daar was ook in 2008 ’n 40-episode-radiovervolgverhaal.

In 2003 is Bloemhof die skrywer van Sarah Theron se kabaret Vurige Diva, wat tydens die Woordfees op Stellenbosch op die planke gebring is. Hy is ook deels verantwoordelik vir die Afrikaanse komedie Die spook van Verlatenfontein, met musiek en lirieke deur François en die musikale verwerking deur Aletta van der Vyver. Danie Botha het die regie waargeneem tydens die opvoering deur die Afrikaanse Toneelvereniging in Bellville in Julie 1992.

Tydens die Suidoosterfees in Kaapstad in 2008 is François se Storiestraat-poppeteater vir kinders opgevoer nadat Cornelia Faasen dit aangepas het en dit deur Niël Rademan geregisseer is. Hy skryf ook ’n vervolgverhaal, Almal se storie, wat in die Kaap-Rapport verskyn het. Dit was ’n interaktiewe verhaal waarin lesers die verloop kon beïnvloed, nuwe karakters voorgestel het, gereageer het en selfs saam help skryf het. Dit was sover bekend die eerste vervolgverhaal van sy soort ter wêreld, maar beslis in Afrikaans.

François is een van slegs enkele skrywers in Afrikaans wat sy bestaan uit sy skryfwerk maak. Hy vertel aan Francois Smith (Beeld, 14 Desember 2001) dat om van jou skryfwerk te kan lewe, moet ’n mens bereid wees om te diversifiseer. “Ek het dit nog altyd as ’n baie goeie strekoefening beskou om binne verskillende, streng riglyne my eie ding te doen. Daar is min afsetpunte vir skrywers in Afrikaans, en dis geen skande om mense te gee wat hulle wil hê nie. Daar is egter ’n koddige persepsie in ons land dat ’n mens slegs ernstig kan wees oor jou skryfwerk as jy net so elke drie jaar op die meeste ’n roman uitgee, verkieslik verskuild-outobiografies. Ek kan nie help dat daar baie stories in my kop kom nie – dit sal ’n sonde wees om hulle weg te wys!”

Hy wou ook nog altyd ’n bestaan uit Afrikaanse woorde maak. En hy kry dit reg – “[om] te oorleef – helaas nie om ryk te word nie. Té veel Afrikaanse mense dink ongelukkig nog dinge in ’n ander taal is vanselfsprekend beter. Ek weet ek sou meer geld in ’n ander, oninteressanter ‘woordelose’ beroepsrigting kon maak.”

François glo in humor as teenvoeter vir vrees, vertel hy vir Romi van der Merwe (Rooi Rose, 24 Julie 1996). “Jy moet vir die leser of die kyker sê wanneer om te lag. Hoe banger hy word, hoe lekkerder sal hy lag. Ons het nodig om te lag vir nare goed. Ook skrywers. Om oor jou eie demone te skryf, is ’n manier om daarvan ontslae te raak. Ek verkies om ’n vrolike mens te wees.”

Hy kan gedissiplineerd werk. Hy vertel aan Alita Vorster (Vrouekeur, 25 November 2005) dat hy van die huis af werk en onder meer kopie skryf, vertaal en redigering doen. Dan en wan skryf hy boeke. Wanneer hy ’n boek skryf, dwing hy homself om elke dag vyf bladsye te skryf, totdat die boek klaar is. Buig of bars, by dié voorskrif hou hy. Waarskynlik is dit die rede waarom hy so produktief met sy skryfwerk is.

Die ander groot passie in François se lewe is rolprente en hy het in ’n stadium twee flieks per week gaan kyk, waarvoor hy dan resensies vir Die Burger geskryf het. Hy hou van ’n wye verskeidenheid flieks en dit is vir hom lekker om na enige rolprent te gaan kyk.

Hy fokus sterk daarop om fiks en gesond te bly. Drie dae per week oefen hy saam met sy persoonlike afrigter en die ander dae draf hy. “Ek oefen omdat ek goed voel daarna. Op skool was ek maar ’n onfikse seun wat nooit ter wille van die skool of gewildheid wou presteer nie. Dit dien nou as die dryfveer agter my wil om fiks te wees – ek doen dit vir myself. Sover ons weet, het ons net een liggaam en daarom het ons die verantwoordelikheid om dit op te pas.”

Hy deel sy woning (in 2009) met vier katte: Fernando, ’n baasspelerige Siamees, Rosebud, ’n nukkerige Birmaan, Katinka, ’n Noorweegse boskat en nie ’n diep denker nie, en Emma, ’n dierbare kat van twyfelagtige afkoms. Hy vertel aan Alita Vorster dat sy eerste troeteldier ’n hond met die naam Trio was. “Sy naam was simbolies, het dit geblyk. Hy het eers aan ander mense op die dorp behoort en het aanhoudend teruggeloop soontoe. Die derde keer wat die ondankbare Trio dit gedoen het, het ’n motor hom doodgery. Ek is mal oor katte se misterie, die verrassingselement, die sagtheid en die gevaar. Met ’n hond weet jy presies wat jy kry, dis soos ’n boek waarvan jy die einde ken. Ek is lief vir alle diere, maar ’n hond laat my soms ongemaklik voel as hy so al oor my is. Seker maar omdat ek nie lief vir die kollig is nie.”

In Volksblad van 1 Oktober 2008 vra Danila Liebenberg aan François of hy ’n voorkeur het vir ’n sekere ouderdomsgroep wanneer hy skryf. Hy antwoord dat dit afhang van watter storie by hom opkom en dat hy dan dadelik weet vir watter ouderdomsgroep dit bedoel is. “Ek was nooit van plan om so baie vir jonger lesers te skryf nie, maar toe die uitgewers my laat weet hulle lees in elk geval my grootmensboeke, wou ek probeer om spesiaal vir hulle iets te skryf. En dis goed dat ek het, want jong lesers het nie dieselfde vooroordeel teen byvoorbeeld grieselrige en scifi-elemente as baie volwasse lesers nie. As ek nie vir jong lesers geskryf het nie, was daar ’n klomp goeie idees waarmee ek niks sou kon doen nie. Baie mense, wanneer hulle ‘grootword’, begin voel dis nie meer aanvaarbaar om in ‘sulke goed’ belang te stel nie. Dis jammer dat mense hulself so kan sensor. Kinders is nog oopkop.”

Op ’n vraag van Danila Liebenberg oor hoe die verbeelde werklikheid tot hom spreek terwyl hy skryf, antwoord François dat dit oulik kon wees om te sê dat hy hom totaal in sy storie inleef, maar hy weet baie goed waar dit stop en waar die werklikheid begin. “Ek het my pa se logiese brein en my ma se liefde vir stories geërf; dis hoekom die struktuur van my boeke vir my so belangrik is: Ek vertel nie net nie, ek organiseer die gebeure voor die tyd soos ’n militêre veldtog.”

Die Landbouweekblad (14 Desember 2012) wou by François weet wat die X-faktor in spanningsromans is – daardie element wat lesers sal laat aanhou en aanhou lees: "Onvoorspelbaarheid," is sy onmiddellike antwoord. "En daar moet baie gebeur. Ek lees verskillende boeke, maar self wil ek iets skryf waar ’n mens nie seker is wat jou te wagte is nie. Die karakters moet ook sterk genoeg geteken wees dat jy omgee wat met hulle gebeur. Hulle moet die intrige in ’n sekere rigting stuur, maar daar moenie só knaend op hul emosies ingegaan word dat dit ’n karakterstudie word met net een of twee spannende situasies tussenin nie. As daar te veel karakters is, raak dinge ook vir my erg verwater en onpersoonlik."

Vir François is die uitdaging dié element van die spanningsgenre wat hy die meeste geniet. "Want spanning is moeilik om op die bladsy te skep - jy het nie flieks se redigering, donderende musiek en klankeffekte om jou te help nie. Maar dan, as jy daarin slaag om die leser se aandag te hou, het jy soveel meer rede om gelukkig te wees. Tot jy probleme ondervind met die intrige van die volgende boek, natuurlik!

"Ek geniet dit ook om met elke boek te probeer om dit nie te soortgelyk aan my voriges te maak nie; ook daarom dat ek graag nuwe karakters skep en nie terugval op oues wat vir my maklik sou wees om weer oor te skryf nie. Ek besef baie lesers hou juis van voorspelbaarheid, maar as ’n skrywer nie aanhou om homself uit te daag nie, kan ek nie verstaan hoekom hy sou wou aanhou skryf nie." (Die Landbouweekblad, 14 Desember 2012)

Oor die verskil tussen kinder- en jeugliteratuur verduidelik François op LitNet dat dit riskant kan wees om skryfwerk te kategoriseer. Hy meen egter dat kinders van ongeveer 12 jaar af nie meer kinders genoem kan word nie – "of dit is in elk geval nie wat hulle genoem wil word nie en dit is vir hulle wat ’n mens skryf, daarom neem hulle die besluite. Noodwendig is kinderliteratuur eenvoudiger, onskuldiger. Met jeugliteratuur moet jy in gedagte hou dat die jongmense van vandag baie beter ingelig is as dié van selfs een dekade gelede, dat hulle met al wat ’n onderwerp is te make kry in die media of tussen vriende, en dat die boeke wat hulle lees gerus maar so ’n volledige wêreld kan weerspieël – en dan verkies ek self om temas nie op ’n sosio-maatskaplike manier te 'behandel' nie, maar dit bloot deel van die storie te maak, net soos al wat ’n issue deel is van ons almal se lewens op ’n daaglikse grondslag."

François beken aan Org Potgieter op LitNet dat hy wil aanhou skryf totdat hy nie meer kan nie – "solank my kop en vingers werk. Ek is te lief vir stories en glo my idees sal nie opraak nie. Verskillende stories moet op verskillende maniere vertel word en as skrywer moet ek my styl vir elke genre aanpas, iets wat voortdurende uitdagings skep."

Publikasies:

Publikasie

Die nag het net een oog

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624029664 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Debuutprys De Kat/Sanlam/Antenne-romanwedstryd 1990

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die duiwel se tuin

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624025314 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koue soen: die dood en tye van die Strydom-Rabies

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032817 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sakkie en die toffiewolf

Publikasiedatum

1994

ISBN

0702133000 (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die dom towenaar

Publikasiedatum

1994

ISBN

0702133019 (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bloedbroer

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033880 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woelwaterwysheid: gedigte met vrae vir st 1. Deel 1. Saam met Johan van Lill en Rina Steyn

Publikasiedatum

1995

ISBN

0620192232 (sb)

Uitgewer

Paarl: Horison

Literêre vorm

Skoolhandboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woelwaterwysheid: gedigte met vrae vir st 1. Deel 1: handleiding vir onderwysers. Saam met Johan van Lill en Rina Steyn

Publikasiedatum

1995

ISBN

0620193093 (sb)

Uitgewer

Paarl: Horison

Literêre vorm

Skoolhandboek onderwysershandleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donkerwoud

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798132930 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Middernagland

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135379 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrou met die pers oog (Rillers. 2)

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2011

ISBN

  • 0798135891 (sb)
  • 9780798155328 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels The lady with the purple eye

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Storieboek: belydenisse van ’n mitomaan

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136251 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

K-TV holiday fun

Publikasiedatum

1997

ISBN

079813562X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mooidraai Basuin

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798136723 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dinnie Kaboef

Publikasiedatum

1997

ISBN

070214049X (sb)

Uitgewer

Kenwyn: Juta

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waterding

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798136812 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 10–12 jaar 1999

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Slinger-slinger

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035409 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Sanlamprys vir Jeuglektuur (Beginnerskategorie) 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nagbesoeker

Publikasiedatum

1997

ISBN

079813724X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamer 13

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798137843 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 10–12 jaar 2000

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wit huis

Publikasiedatum

1998

ISBN

0628037260 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Kagiso/FNB Literêre Wedstryd 1998

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hostis

Publikasiedatum

1998

ISBN

1874901910 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Quellerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die speletjie (Rillers. 1)

Publikasiedatum

  • 1999
  • 2011

ISBN

  • 0798138076 (sb)
  • 9780798155267 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 10–12 jaar 2001

Vertalings

Engels 2011 The gotcha game

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klipgooi

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139633 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kry vir jou, ou Langklou

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140607 (sb)

Uitgewer

Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die dae toe ek Elvis was

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2005
  • 2006

ISBN

  • 0624038580 (sb)
  • 0624043010 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Tweede asem vir Jan A

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798142022 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Felino (Agent Snoet) en die botterdiamant

Publikasiedatum

2002

ISBN

0799330353 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Strokiesverhaal vir die jeug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hospitaaltyd

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142812 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 10–12 jaar 2004

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Dag om te vier!

Publikasiedatum

2003

ISBN

0625032969 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2002 A day to celebrate

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Blink gedagtes

Publikasiedatum

2003

ISBN

062503290X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2002 Bright ideas

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spinnekoppe in die huis

Publikasiedatum

2003

ISBN

0625034031 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2002 Spiders in the house

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wie wil wat wees?

Publikasiedatum

2003

ISBN

0625033450 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2003 Who wants to be what?

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leesboek. Graad 4 (saam met ander skrywers)

Publikasiedatum

2004

ISBN

1770040226 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Skoolhandboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leesboek. Graad 5 (saam met ander skrywers)

Publikasiedatum

2004

ISBN

177040285 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou Via Afrika

Literêre vorm

Skoolhandboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vampiere in Londen

Publikasiedatum

2004

ISBN

07981

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agent Snoet en die kattekwaad

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799335088 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Strokiesverhaal vir die jeug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nie vir kinders nie

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624043061 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Sanlamprys vir Jeuglektuur Goud 2005

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rillers-omnibus

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146176 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Spinnerak

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336378 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jagseisoen

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799340136 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stad aan die einde van die wêreld

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780636081697 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Maskew Miller Longman

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Tweede in Maskew Miller Longman se Letterkunde-kompetisie

Vertalings

Engels vertaal deur outeur 2009

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agent Snoet en die hondelewe

Publikasiedatum

  • 2008
  • 2011

ISBN

9780799341539 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Strokiesverhaal vir die jeug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rooi Luiperd (Rooi Luiperd. 1)

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149921 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Flipom: Projek Zero Die spring-sing

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2010

ISBN

  • 0799338843 (sb)
  • 9780799344998 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moenie dat die grootmense hoor nie: 25 vi 10ers v/d 21ste

Publikasiedatum

2009

ISBN

0624047339 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Harde woorde

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799344332 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Afspraak in Venesië (Rooi Luiperd. 2)

Publikasiedatum

2009

ISBN

0798151061 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

13 spookstories. Saam met Jaco Jacobs en Fanie Viljoen

Publikasiedatum

  • 2010
  • 2011

ISBN

9780799346572 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spookstories

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agent Snoet (Felino) en die Groen Genugtig

Publikasiedatum

  • 2010
  • 2011

ISBN

9780799347388 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Strokiesverhaal vir die jeug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die genesis-faktor (Rooi Luiperd. 3)

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151184 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die onbekendes

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780799345230 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Helse manier van koebaai sê (Rooi Luiperd)

Publikasiedatum

2011

ISBN

97807981155878 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Victor, Madri: Helse manier van koebaai sê: Die finale Rooi Luiperd stel nie teleur nie

 

Publikasie

Die land verby donker

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799357967 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Alfabetboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die waterding (Rillers)

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798156905 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donkerwoud (Rillers)

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798157551 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels Dark forest

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jy-weet-wie

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799358452 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamer 13 (Rillers)

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798157612 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nog 13 spookstories. Saam met Jaco Jacobs en Fanie Viljoen

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2013

ISBN

9780799355109 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spookstories

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ou Langklou (Rillers)

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798157247 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels Old Aunty Claws

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die pad na jou hart: vind jou ware noord

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624065760 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vampiere van Londen (Rillers)

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157582 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hospitaaltyd (Rillers)

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157643 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koue rillings. Saam met Jaco Jacobs en Fanie Viljoen

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799362107 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moord in die beloofde land

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157803 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vierde stem

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798168274 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde, moord en facebook

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781485900061 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vir altyd

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624075776 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agent Snoet en die windlawaai

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799377279 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Strokiesverhaal vir die jeug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Doodskoot

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781485903086 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels Double echo

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vir die voëls

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780624080473 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dieretuin

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780639911014 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Imbali Akademies

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels 2017 Feeding time

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Agent Snoet 5 in 1

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799388572 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Strokiesverhaal vir die jeug

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Deur Leo Bekker

Publikasie

Dinge met tande

Publikasiedatum

1995

ISBN

079813407X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sprong

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138319 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

François Bloemhof as samesteller

 

François Bloemhof as vertaler

  • Dahl, Roald: Roald Dahl se Vreeslike versies. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012 [ISBN 9781869198510 (sb)]

Artikels oor François Bloemhof beskikbaar op die internet

Artikels deur François Bloemhof beskikbaar op die internet

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post François Bloemhof (1962–) appeared first on LitNet.

Peet Venter (1940–)

$
0
0

Sêgoed van Peet Venter:

In 1978: “Ek wil oor die mens skryf en oor die heroïese in hom. Ek wil sinvol en volwasse skryf, want ek self en my naam is onlosmaaklik aan my werk verbind.”

In 2013 reageer Peet oor bogenoemde stelling as volg: “Met die klem op ‘jare gelede’.  Toe was ek nog windgat. Maar ek het intussen grootgeword. Ek het al dinge geskryf, veral kortverhale, waarvan ek myself vandag graag sal wil distansieer. Maar dit is water onder die brug. Gelukkig is ek trots om my naam aan die meeste verbonde te hê, want hulle kom uit die siel. Elke mens kies sy of haar eie helde. Ek kies die heroïese van Victor Hugo, Ayn Rand, Bach, Mozart, Beethoven, Brahms, Da Vinci, Van Rhyn, Van Wouw, Pierneef, en ander. Die verheerliking van die ‘antiheld’ – Dostoevsky, Salman Rushdie, Etienne Leroux, Van Gogh, Picasso, Preller, ens – laat my koud. Dis nie te sê ek het in die ou dae vasgeval nie; daar is baie moderne skrywers, komponiste, beeldende kunstenaars wat heroïese werk lewer. Ja, ons het helde nodig, nie ‘idols’ nie.” (aan LitNet)

“Ek hou van die riller-genre, maar ek is versigtig om my te laat vasbind in net een spesifieke genre.” (Beeld, 2 September 1997)

In 1997: “Wanneer ek aan ’n boek werk, hou ek daarvan om in ’n styl te skryf wat in daardie stadium in my kop is. Disa DISA is byvoorbeeld nie net ’n riller nie. Daar is ook romanse in. Ek hou myself oop en wil nie vasgepen word as ’n skrywer wat net in een styl werk nie.” (Beeld, 2 September 1997)

“Die misdaadroman leen hom by uitstek tot vinnige, volgehoue aksie en spanning. ’n Mens moet jou storie ken om dit reg te kry. Jy moet jou leser binne die eerste sin of twee vasvang, en nie weer laat los tot die einde nie.” 

Hoekom die misdaadgenre? “Ek hou van dié genre, omdat dit lekker breinoefening is. En omdat dit so na aan die werklike lewe is, moet ’n mens se navorsing deeglik wees. Dit is ook die rede waarom ek huiwer om te diep ondersoek na die psige van die misdadiger in te stel. Dit is ’n baie gespesialiseerde veld, en ek het nie genoeg kennis daarvoor nie. Ek verkies om net aan die basiese innerlike van die moordenaar te raak, en sy dade verder te laat spreek. Die res laat ek aan die leser oor.” (aan Carla van der Spuy op LitNet)

“Wie is ek om my siening aan ander te wil opdring? As ’n skrywer wil derms uitryg oor moraliteit, politiek, godsdiens, dan moet hy ’n niefiksie-boek of tesis loop skryf. Afgesien daarvan dat dit weer eens oor oormatige woorde gaan, het die meeste stories die werklike lewe as verwysing. Dinge wat daagliks om en met ons gebeur, is van toepassing op die karakters en storielyn. Om dit in ’n storie totaal te vermy, kom neer op kosmetiek. Dit mag mooi wees, maar dit is vals. Laat dit met die karakters gebeur, laat hulle daaroor praat en dink, maar nie tot kotsens toe nie. Dieselfde geld vir vloek. Sommige mense vloek, of ons nou daarvan hou of nie. Punt.” (op LitNet)

“Mense vra dikwels hoekom is ek so stil. Miskien is ek tot ’n mate ’n introvert – ek weet nie. Maar dit gaan darem nie so ver as antisosialisme nie. Ek kom gemaklik met mense oor die weg, kan gesprekke voer, selfs laf raak. Ek dink dit gaan meer daaroor dat daar vir my nie eensaamheid in alleenheid is nie. Ek geniet die ‘regte’ geselskap, maar mis dit ook nie as dit nie daar is nie, want eintlik is my gedagtes die beste geselskap.” (op LitNet)

Oor kritiek: “Positiewe kommentaar en resensies is lekker, maar mens moet dit nie kop toe vat nie. Negatiewe kritiek is net so belangrik: ’n mens leer daaruit. Dit sluit natuurlik die snotterige aftakeling van sommige kritici uit. Hulle is gewoonlik dié wat woorde gebruik wat mens moet gaan opsoek, en kleinhuisiemetafore. ’n Mens leer maar so met die tyd om hulle van ’n afstand raak te sien. Die ware kritikus wys die goeie en slegte uit én staaf dit. Die ware kritikus onderrig en bou op. Die een wat ’n persoonlikheidsprobleem het, verkleineer en breek af.” (op LitNet)

Wat is die beste raad wat hy aan ’n voornemende spanningsverhaalskrywer kan gee? "Baie verbeelding. Vinnige pas. Min woorde. Laat jou karakters die storie vertel. Moet nooit jou lesers se intelligensie beledig nie." (Romanza se webwerf)

Sy skryfproses: "Ek werk nie volgens ’n raamwerk nie. Dis te beperkend. Die storie is in my kop. Ek kou ’n ruk lank daaraan, dan kom sit ek voor my rekenaar en begin bloei. Basiese navorsing doen ek vooraf om seker te maak die storie kan werk, dan doen ek detailnavorsing wanneer nodig soos ek vorder." (LitNet)

Oor die genre waarbinne hy skryf: "Apartheid was ’n onvergeeflike lelike ding. Mense is gemarginaliseer en eenkant toe gestoot. Maar feit bly staan; die mense wat vandag aan bewind is, het ’n land oorgeneem wat gewerk het en dit in minder as twee dekades gebreek. Ek is hartseer en kwaad. Ek wil mense seermaak. Die genre waarin ek skryf, is ’n uitlaatklep vir my. Anders weet ek nie..." (LitNet)

Aan Carla van der Spuy op LitNet: "Ek hou van Krige. Hy is ’n gewone ou wat net reg wil maak wat verkeerd is. Ek dink ’n 'shrink' sal seker kopkrap oor die geweldspotensiaal in so ’n man, en na sy teksboeke gryp, maar hy het nie die pille nodig nie. Hy is gevaarlik net as met hom geneuk word."

Izak de Vries meen dat Peet baie filmies skryf. Hoe kry hy dit reg? "Die maklike antwoord is, dis maar soos ek is. Maar om te ontleed: ek dink dit het te doen met my aanlegte. Verbeelding, waarneming en aanvoeling is onderliggend. Om ’n meganiese stelsel te kan ontwerp moet ek dit eers in my geestesoog kan sien. Dieselfde met karakters en hulle handelinge. Ek moet hulle kan sien, hoor, voel.

En dan moet jy verskriklik oortuigend kan lieg. Jy moet in Pixar kan lieg. Dit het ek, as die jongste van vier seuns, vroeg in my lewe geleer." (LitNet)

Gebore en getoë

Petrus (Peet) Venter is op 3 Oktober 1940 op Krugersdorp gebore as die jongste van vier seuns, met een jonger suster. Sy pa, WF Venter, was ’n predikant daar. Hulle het in 1943 na Louis Trichardt verhuis, waar hy “mens geword” het. Hy is in 1947 Op Louis Trichardt skool toe.

As die jongste van vier seuns, met een jonger suster, het Peet baie “onafhanklik” grootgeword. Hy vertel aan LitNet: “Ek dink in die sin dat my ouers hulle hande so vol gehad het met my drie ouer broers, en so in hul skik was met die dogter (uiteindelik), dat ek soort van die een in die middel was. Hoegenaamd nie afgeskeep of verwaarloos nie. Net vryer, meer op myself aangewese, wat ek glo ’n goeie ding was. Ek dink dit het my in staat gestel, miskien selfs gedwing, om myself as mens reeds in daardie vormende kinderjare te vind. Dis dalk die rede waarom ek nooit ’n ‘midlife crisis’ gehad het nie. As ek een gehad het, moes dit een nag gebeur het toe ek geslaap het. Ek kan nie onthou of ek ooit aan myself getwyfel het nie. Dit klink baie windgat, maar ek het die reg om dit te mag sê op my eie verwerf.”

In 1949 het Peet se pa ’n beroep na Pretoria-Noord aanvaar en sedertdien is hy ’n Pretorianer. Hy het sy laerskoolloopbaan aan die Voortrekker Eeufees Laerskool in Pretoria-Noord voortgesit. Daarna is hy na die Hoërskool Wonderboom, waar hy in 1958 gematrikuleer het.

Sy liefde vir die letterkunde dateer reeds uit sy kinderjare en sy ouers het hierdie liefde vroeg besef en sy verjaardaggeskenke het gewoonlik uit boeke bestaan. “Ek was van jongs af lief vir lees. My ma het my baie aangemoedig om te lees. En in ’n stadium begin ’n ou drome droom oor wat jy wil word, en ek wou ’n skrywer wees.” (aan LitNet)

Peet se eerste tree op die skrywerspad het hy in standerd vyf gewaag toe hy ’n pryswenner was in die jaarlikse opstelwedstryd wat die destydse Suid-Afrikaanse Vlootbond gereël het, maar hy het eers later ernstig begin skryf.

Verdere studies en werk

In 1959 skryf hy in by die destydse PU vir CHO (vandag Noordwes-Universiteit) op Potchefstroom vir die BMus-graad aan die Konservatorium vir Musiek, maar slaan in sy tweede jaar oor na die natuurwetenskappe.

In 1964 het Peet as tegnikus in diens van die destydse Departement van Landbou-Tegniese Dienste getree en in 1971 het hy as ontwerptegnikus by ’n raadgewende ingenieursfirma in Pretoria aangesluit en was later daar werksaam as medewerker in die meganiese spesialiteitsrigting.

As ingenieur was Peet betrokke by baie groot projekte. Izak de Vries (op LitNet) wou by hom weet hoe hy voel as hy by een van hierdie bakens waaraan hy gewerk het, verbyry. "Ek wonder hoeveel mense besef wat alles in geboue aangaan om dit te laat werk. Die argitek ontwerp die sigbare onderstel en bakwerk. Die bouer bou dit. Ons, die ingenieurs, sit die enjin in, die wiele aan, die ontstekingstelsel, laat dit werk. Dis vir my soos ’n monument wat ek vir myself gebou het, maar net ek weet daarvan omdat dit vir ander meestal onsigbaar is. Dit maak die trots net soveel meer intiem. Soos in, ek weet wat ander nie weet nie, sien. Nie vermakerig bedoel nie. Dis net … spesiaal. My eie. Mense aanvaar die hysbakke, roltrappe, lugversorging, elektrisiteit, kommunikasie, water, riolering, brandbeveiliging as vanselfsprekend. Hulle is reg. Maar ek weet ek het dit daar vir hulle gesit – vir hulle gemak en veiligheid. Daar is dinge waarvoor geld nie kan betaal nie."

Izak wou ook weet watter ingenieursprojek staan vir hom uit as hy oor sy loopbaan moes terugkyk. Hierop was Peet se antwoord: "Oor ’n loopbaan van bykans 50 jaar vergeet ’n mens noodwendig heelwat van wat agter lê. Deels omdat nie almal 'monumentaal' was nie, deels omdat daar voortdurend nuwe uitdagings voorlê. Die een wat my die naaste aan die hart lê, is die Staatsteater in Pretoria. Dis nie ’n gebou wat mense insluk en agt, of meer, ure se werk van hulle vereis nie. Dis ’n plek wat mense verwelkom, hulle gemaklik laat voel, en ’n paar uur se genot aan hulle verskaf, iets mooi vir hulle gee; soos ’n elegante gasvrou."

Peet se eerste roman, Die alleenlopers, is in 1978 by Perskor gepubliseer. Dit is beskryf as ’n sterk verhaal wat sentraal staan in Suidelike Afrika van 1978 met sy onstuimige agtergrond. Anton Vermeulen met sy soeke na sy pa en na homself is die hoofkarakter. Sy oupa en ouma het hom grootgemaak en volgens hulle is hy die gevolg van sy ma se verkragting. Sy grootwordjare was nie normaal nie en sy hele lewe het hy gewy om sy identiteit te vind.
Hy bekwaam hom as advokaat en skei later van sy vrou. Hy gaan na die noorde van die destydse Transvaal  nadat hy gehoor dat sy pa dalk ’n jagter daar kan wees. Hy wil met sy pa afreken en daarna met homself.

En dit is hier waar die avontuurverhaal sy loop begin neem: daar is twee mooi meisies, ’n wapensmokkelaar, ’n klomp swartes wat in opstand wil kom. Die alleenlopers is Anton en die terroris, Omata Oshinga.

Vir PH Roodt (Die Transvaler, 9 September 1978) het die verhaal ’n lekker avontuurverhaal geword, maar die verteller was baie geneig om te diep te raak, veral as dit kom by die teken van Anton se karakter, Die uitbeelding van Omata en die stam het meer oortuiging gehad en die leser kon sien dat die skrywer die swart man goed ken. Roodt beskou die vertelling in daardie dele van die boek is behendig en dit het hom geboei. Dit was vir Roodt duidelik dat Venter dit wat hy het om te vertel, heeltemal goed doen, maar die storie sou baat gevind het by beter redigering, aangesien daar ’n klompie struktuurfoute is.
Peet het lank aan Die alleenlopers gewerk, meestal snags, want hy is ’n besonder veelsydige mens. Sy skeppende talent begin en eindig nie by skryf nie: hy skilder graag en doen ook baie goeie beeldhouwerk. Die indrukwekkende gedenkpaneel in Delmas se stadsaal was sy handewerk en sy skilderye is ook baie gewild.

Terwyl Peet ’n intense belangstelling in die werk van die groot filosowe, van Plato en Aristoteles tot Nietzsche, het, het hy ook ’n besondere voorliefde vir motorfietse en een van sy grootste plesiere was om teen 200 km/h op ’n groot fiets te jaag (dit was in 1978).

Hy het in Ayn Rand die antwoord gevind op sy lewensfilosofie wat so deur die jare opgebou het. Sy het ’n besliste invloed op sy werk gehad.
’n Verskeidenheid van sy kortverhale het onder andere in die tydskrif Keur verskyn, asook in bundels wat deur JP van der Walt uitgegee is, soos NaglopersKortetjies vir die katelVangnetDie goeie getyBloudrukDrif en Dwalers.

Na die publikasie van Die alleenlopers in 1978 het 17 jaar verloop voor Peet se tweede boek in 1995 verskyn het onder die titel Die reuk van rose in JP van der Walt se Speur-/Spanningsreeks.

Die reuk van rose het ’n baie interessante intrige. Drie dienspligtiges ry duim huis toe met ’n naweekpas en die leser kom baie gou agter dat ’n reeksmoordenaar hulle gaan vermoor. Maar die rede daaragter is nie baie duidelik nie. En hier verskyn die uiters bekwame speurder, Thys Krige, en sy sexy en slim vrou op die toneel. Hulle moet agter die kap van die byl kom. Om alles nog verder te kompliseer, word ’n wit roos by elke lyk gelaat. Nog hulp daag op in die persoon van Renier Rossouw, ’n professor in sielkunde, en gebeurtenisse loop ’n aardige draai.

Dieper as die bloed (1996) is ’n vervolg op Die reuk van rose, maar die twee kan ook  onafhanklik van mekaar gelees word.

Nog ’n spanningsverhaal uit Peet se pen, Disa DISA, verskyn in 1996.

Die milieu vir Disa DISA is die Knysna-woud. Matt le Roux gaan terug na die erfplaas Donkerhoek om dit weer ’n spogplaas te maak, maar Matt kry met baie geheimsinnige probleme te doen. En hy glo amper vas dat sy eie broer, Jean-Roux iets daarmee te doen het. Daar is kwessies soos moorde wat onopgelos is, aanrandings, skelmheid en boonop manipuleer Jean-Roux mense op so ’n manier dat Matt weet daar nie net ’n stryd tussen goed en kwaad daar is nie, maar dat daar ook ander duistere dinge aan die gang is.

Volgens Marianne Breytenbach (Keur, 4 Oktober 1996) sal lesers wat van okkultiese ondertone in hul leesstof hou, van Disa DISA hou. Elk van die 448 bladsye spreek van jare se beplanning, navorsing, oordenking en herskryf. Maar dis nie ’n mak boek nie. Benewens die okkulte is daar ook effe kru taal en ’n warm sekstoneel of twee.

Oor Disa DISA het Peet in 1996 by die Leeskringseminaar op Welkom die volgende gesê (Volksblad, datum onbekend): “Die onderstroom van Disa DISA kan met die eerste interpretasie gesien word as die ou konflik tussen goed en kwaad. Hoewel dit basies reg is, is dit nie volledig nie, en miskien ietwat simplisties. Die onderstroom van die onderstroom gaan oor daardie mistieke, daardie instink wat in die mens was van sy vroegste, primitiefste bestaan as denkende wese, en waaruit juis die begrip van goed en kwaad ontstaan en ontwikkel het – eers as net ’n heel grondige onderskeid tussen wat as mens teenoor mens in ’n samelewing reg of verkeerd is, tot wat ons vandag ken as ’n uiters verfynde en verweefde etiese en morele kode.

“Ek het in Disa DISA die mistieke nie alleen doelbewus grondliggend tot konflik gemaak nie, maar dit ook as die samebindende faktor probeer gebruik, nie alleen tussen die versoenbare nie, maar ook tussen die konflikterende.

“My keuse om van Disa DISA ’n lekkerleesstorie – maar geensins ’n oppervlakkige een nie – te maak, was nie gegrond op ’n vrees vir of onvermoë tot die swaar filosofiese werk nie. Ook nie op die feit dat dié genre al redelik holrug gery is nie.

“Ek het my om verskeie redes weerhou om die bose met die taamlike tradisioneel mistieke onderstroom, in direkte konflik te plaas met byvoorbeeld ’n sterk teenstellende Christelike oortuiging. Die groot rede is dat die Christelike of enige ander aanvaarbare godsdienstige geloof, ook maar ’n sterk mistieke onderstroom het. Sou ek die twee teenoor mekaar stel, sou ek maar net die konflik verdiep het na die mistieke vlak.

“Daar is rillerelemente, want ons leef in ’n riller. Daar is humor, vreugde en tragedie, en ook witwarm seks en tere romanse. Daar word skreiend gevloek. Wat kan ek sê? Dit is nie my skuld as mense so lelik praat nie. Ek is maar net ’n eerlike skrywer. Daar word gelieg en bedrieg, en daar is rugstekery, want die politici sal maar altyd met ons wees.”

Disa DISA het groot genot aan F Vorster (Onse Angeltjie, November 1997) verskaf in die opsig dat dit ’n afwisseling bied van die meeste destydse werke wat primêr om die politieke situasie verweef was. ’n Aanhaling uit Raka van NP van Wyk Louw waarmee die roman open, dui op die ou-ou tema tussen goed en kwaad wat hier uitgebeeld word. Liefde speel uit die aard van die saak ’n belangrike rol as daar probeer word om die bose te bowe te kom.

Die legende van die enkeltweeling met die tweelingsiel waar ’n tweeling by geboorte geskei word, word in die voorwoord vertel en so word die agtergrond aan die leser geskets. Een van die tweeling word as offer gebring en dan gaan die siel van die geofferde binne in die oorlewende in.

Nog ’n daarstelling van die invloed van die legende op die karakters is naamgewing. Sekere limitasies soos talent, liefde wat onbeantwoord bly, wellus en moordgenot veroorsaak dat al die karakters in die verhaal op ’n manier vasgevang word. Dan in die epiloog slaag Venter daarin om al die los rafels tot ’n eenheid saam te snoer en word daar ook geleentheid geskep vir ’n opvolg.

’n Bundel ligte kortverhale getiteld Die koeël is deur die kerk word in 1997 gepubliseer. Hierin herroep ’n predikantseun sy kinderdae, tot groot vermaak, skryf Jeanette Ferreira (Leeftyd, Desember 1997-Januarie 1998). ’n Komiese toneel word partykeer ’n bietjie uitgerek sodat dit nie meer so goed tref nie. Venter skryf met groot empatie oor sy karakters en dit is wat daartoe bydra dat die verhale sulke heerlike humor bevat. Hy skryf oor swakhede en wense van mense wat eie is aan die plattelandse, Calvinistiese kultuur. Daar is lesers wat dalk kan eksepsie neem oor seksuele sinspelings of die gebruik van kragwoorde, maar dit bly alles in ’n goeie gees.

Henk van de Graaf (Die Patriot, Julie 1997) meen dat Venter die vermoë het om uitdrukkings en woorde nuwe betekenis te gee en dat sy manier van stories vertel, pittig is. Volgens Van de Graaf is Die koeël is deur die kerk ’n aanwins vir die boekrak.

Thys Krige, die speurder van Die reuk van rose, maak in latere boeke van Peet weer sy opwagting, soos in Nag van die narre, waar hy weer met ’n reeksmoordenaar te doen kry – hierdie keer is die toneel vir hierdie lekkerleesriller ’n universiteitskampus en al die slagoffers is studente.

By die universiteit se mediese skool wag die eerstejaars snags angstig vir nog ’n sarsie in die ontgroeningsproses, wanneer senior studente, almal gesigloos agter klapmusse, soms genadeloos op hulle toeslaan. En sommige knak onder die aanslag. In die kliek van die uitgesoekte seniors is die sogenaamde narrekring, waar dinge soms te ver gevoer word. Dan kap iemand terug en van die narre word vermoor.

Met die honderdste herdenking van die Anglo-Boereoorlog in 1999 publiseer Van der Walt Peet se Vlieg, duifie, vlieg!. Dit handel oor die Villiers-gesin van Boesmanskloof naby Aliwal-Noord wat deur omstandighede buite hulle beheer in die Boere se stryd teen die Engelse ingedwing word. Dis ’n oorlog wat die gesin uitmekaar skeur en Chrissie Villiers weerloos laat teen groter vyande as die Britse soldate op die vernielde Boesmanskloof.

Chrissie word, soos baie ander Afrikaners in die Kaapprovinsie, vasgevang in die oorlogsnet. Toef Taljaard wil nie gaan veg nie, want dis nie die Kaapse Afrikaners se oorlog nie. Marcel gaan wel, en Jan Lotriet weet wat hy wil hê – in oorlog geld verraad ook. Maar op die ou end lei alle paaie terug na Chrissie. Dit is ’n opwindende historiese roman met genoeg romanse en avontuur om lesers te boei en wat goed aansluit by die res van die lektuur oor die Anglo-Boereoorlog.

Met In kringe: ’n verhaal in drie stemme wat in 1999 gepubliseer is, het Van der Walt Uitgewers ’n interessante eksperiment gedoen. In 1956 verskyn GA Watermeyer se enigste novelle onder sy eie naam: Waar die Vuurpyle Vlam. Dit het indertyd in die tydskrif Die Lewe verskyn.

Volgens Joan Hambidge (Die Burger, 22 Desember 1999) is die verhaal oerbekend: “’n Man (Douw) verdink sy vrou (Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is dus ’n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.”

Hambidge skryf verder dat die waarde van die novelle in die vermoë lê om subteks te hanteer. “Onder meer die kernpassasie wanneer die hings getem word, en Douw daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele implikasies.’n Mens lees jou soms vas teen die taalgebruik van die vyftigerjare wat ’n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.

“Tipies postmodernisties antwoord twee ander skrywers Watermeyer, en die publisiteitstuk wil dan Watermeyer tot Douw verklaar; Estelle Marais tot Myrna; en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.Hambidge meen dat puriste waarskynlik die piep sal kry, maar dat dit tog ’n interessante literêre eksperiment is. Of die twee aanvullers daarin slaag om Watermeyer se subtiele aanslag vol te hou, moet die leser self besluit.

“Die sluimerende populêre aanslag in die Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om vanuit ’n psigoanalitiese perspektief te ontleed) word in die pen van Estelle Marais blatant, dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. ’n Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met ’n ongeskonde oog kan lees nie. (...)

“Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit ’n Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die Oedipale struktuur (die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later as professor betrokke by ’n jong student. Sy is weer, op haar beurt, verlief op Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk onvrugbaar te wees. 

Die bloedskendige word hier geaktiveer, en volgens Freud is dit onderliggend aan die sogenaamde ‘familieromanse’ wat gebaseer is op Sofokles se Koning Oedipus.

“Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is, geld hier. Interessante idees word so sleg vertel, en in sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die leser (en hier by name Hambidge) met ’n rooi pen sit en tik-tak. Kan iemand nie asseblief ’n embargo op die woord ‘bruusk’ plaas nie? Om nie te praat van ‘honger’ nie!”

Hambidge betreur dit dat ’n vertelling waarmee soveel gedoen kon word, nie tot sy reg gekom het nie. Dalk sou ’n beter redakteur In kringe kon gered het. Maar daar is ook positiewe wat hieruit kan spruit. ’n Student wat werk aan ’n postmodernistiese projek, kan hierdie aanhangsels bestudeer. Ook kan diegene wat navorsing in gewilde fiksie doen, kyk na die taalgebruik en die “leë metaforiek van liefdesverhale” nagaan, aldus Hambidge.

In 2001 is twee van Peet se verhale opgeneem in 3 van die bestes, saam met François Bloemhof se Vrou in die maan. Peet se stories was As die regters swyg onder sy eie naam en Diep moord onder die skuilnaam Tom Weiss. As die regters swyg is nog ’n Thys Krige-storie met ’n dwelmagtergrond, terwyl Diep moord se hoofkarakter ’n skisofreniese vrou is wat ’n appeltjie of twee, drie, vier te skil het en sy het ’n unieke manier om daardie appeltjies te skil. (aan LitNet)

Peet se volgende boek word eers weer in 2009 gepubliseer. Met Slang – die onbesonge held bied Venter heerlike ligte vermaak en word die verhaal van Slang Slabbert, die onbesonge held, op kostelike wyse vertel. Hy is eintlik Josias Slabbert gedoop, maar omdat hy haarloos gebore is en so geruisloos beweeg het, het almal hom Slang genoem.

Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog was Slang in sy twintigs en ’n goeie skut, ruiter en ’n uitstekende verkenner. Maar hy kon nie op kommando bly nie. Die kommandant het hom huis toe gestuur na sy weduweema Sanna toe. Die rede ...

Die kommandant het hom vir die nag ingerig onder sy velkombers. Hy het pas sy snorkritme gekry toe hy, soos in ’n droom, bewus word van ’n tweede teenwoordigheid saam met hom onder die kombers ... 

“Naand, Oom,” sug Slang vertroulik in sy oor. 

“O, jou ... se ...!” gil die kommandant. Hy glip onder sy kombers uit soos ’n katowadruif uit sy dop. “Slang!’ gil hy van waar hy etlike treë verder in sy flennie-onderbroek en hemp staan. 

“O, jou ... se ...!” koor die manne. “Wáár, Kommandant?” terwyl hulle so in die donker na gooibare klippe soek.

Ter wille van die verdere ordelike historiese verloop van die oorlog is Slang toe maar huis toe gestuur. En dis eintlik dáár waar sy heldhaftige en onverskrokke dade ’n Skot se hele lewensverloop verander het en die Boerkrygers een van die treffendste veldslae gelewer het. (Uitgewers se inligtingstuk)

Peet het in 2012 Die reuk van rose en Dieper as die bloed saamgevat en herskryf en LAPA het dit uitgegee onder die titel Dieper as die bloed. Dit is op versoek van die uitgewers gedoen. Die storielyn is aangepas en Thys Krige is herskep. Peet wou ’n held hê wat ’n diep en donker plek in hom het waar boosheid broei. Die speurder in ’n gelukkig huwelik met ’n beeldskone vrou het net nie gewerk nie. Hy het ’n gebroke huwelik oorweeg, maar besluit dat dit darem te tipies Amerikaans is. Krige het net ’n alleenloper geword met sy twee Jack Russels en innerlike konflik met die donker plek in hom. Nog ’n handsome en cool ou, maar hy kyk nou met ander oë na mense, en homself. (aan LitNet)

In Dieper as die bloed is Thys Krige se dryfveer die onopgeloste moord op sy pa. Die enigste leidraad wat hy het is iemand wat hy daardie aand vlugtig naby die toneel gesien het, en die woorde wat die man vir hom gesê het: “Kyk dieper as die bloed.”

Sy ondersoek na die moord op twee sakemanne lei Krige na die onopgeloste moord op ’n model. Hy krap ’n misdaadsindikaat van korrupte sakemanne en senior polisie-offisiere oop; mense wat hulself as bo die wet beskou; mense wat nie skroom om wie in hul pad kom uit die weg te ruim nie.

In die proses kry Krige oproepe van ’n geheimsinnige persoon wat nie alleen sy vordering met die ondersoek dophou nie, maar ook duidelik baie van hom weet. In hul gesprekke sê die man by herhaling vir hom: “Kyk dieper as die bloed.” (Uitgewers se inligtingstuk)

Ou bloed wat in 2013 gepubliseer is, is nog ’n Thys Krige-storie waarin hy uiteindelik na vyftien jaar sy pa se moordenaar(s) opspoor.

Ou bloed is ’n opvolg van Dieper as die bloed en hier kan die leser lees van Thys Krige se soektog na sy pa, Albert, se moordenaar, maar die storie is meer ingewikkeld. Daar is ’n moord op ’n landdros en ’n pastoor wat ’n raaisel blootlê. Krige kom tot die gevolgtrekking dat die moordenaar bekend is en dat dit dieselfde man is wat in Dieper as bloed hom gekontak het.

Die mans wat vermoor is, was pedofiele en die storie word meer spannend met wraakmoorde, pedofilie en kinderhandel. Krige moet leidrade wat die moordenaar spesifiek vir hom gelos het, bymekaarbring. Die moordenaar wek wel simpatie by die leser omdat hy net pedofiele teiken. Maar Krige laat homself nie toe om sy soektog te verslap nie, want moord is moord.

Riaan Grobler (Die Burger, 16 Junie 2013) skryf: "Hoewel baie spanningsromans dikwels resepmatig en futloos kan wees, bevat Ou bloed meer as genoeg kinkels en die oorspronklike storielyn, interessante tema en goeie tydsberekening sorg vir ’n uiters spanningsvolle leeservaring."

Teenoor Carla van der Spuy (LitNet) beskryf Peet vir Krige as volg: “Hy maak mense dood, maar hy maak die regte mense dood; om sy eie lewe te beskerm. Die feit dat hy nie veel daaroor wroeg nie, is een van die dinge waarmee hy innerlik stoei. Sy pa was ’n harde, genadelose man wat oor mense geloop het om te kry wat hy wou hê, maar hy het darem nie so ver gegaan om mense dood te maak nie. Is hy soos sy pa, maar net op ’n bloedige manier? Is gewelddadigheid deel van sy psige? Is daar ’n diep, donker plek in hom waar boosheid broei?”

Ou bloed is aangewys as LAPA Uitgewers se Lekkerlitboek vir Augustus 2013.

Vir Madri Victor (LitNet) is Ou bloed  ’n uiters boeiende en vermaaklike misdaadroman. "Die leser kan dalk aardig voel oor die tema van die boek, maar gelukkig is geregtigheid op die ou end die wenner. Die reeksmoordenaar neem namens die leser wraak, maar die leser mag maar saam met hom voel. En die besluit at Krige uiteindelik moet neem en die feit dat hy nie gemaklik is met alles wat hy tydens die ondersoek gedoen het nie, maak dat die leser heelwat vrae het. Dit veroorsaak dat die leser uitsien na ’n opvolg van Ou bloed. En dit is die toonbeeld van ’n suksesvolle misdaadroman."

In 2014 verskyn Waar boosheid broei en in hierdie verhaal staan Thys Krige weer vierkantig in die booswigte se pad. In Waar boosheid broei ondersoek Krige ’n organisasie wat vir menseslagting verantwoordelik is.

In Die Burger (30 Junie 2014) vertel Riaan Grobler verder oor Waar boosheid broei: "Soos dit met hierdie tipe verhale gaan, is daar verskeie kinkels en Krige bevind hom onder meer in Zimbabwe om die aanhouding van die joernalis Henk Human te ondersoek. Hy kom af op ’n video wat Suid-Afrikaners in ’n menseslagting impliseer en hy volg die spoor terug na Suid-Afrika, waar die polisie se misdaadintelligensie by die ondersoek betrokke raak. Die joernalis Robyn Arendse se reeks artikels oor kindersmokkelary sorg vir ’n verdere kinkel, veral wanneer dit blyk dat haar lewe in gevaar is. Hugo Mentz, ’n kennis wat sy op Twitter ontmoet het, bied aan om haar te beskerm op sy plaas en só begin die spanningslyne verstrengel raak.

"Venter sorg weer vir ’n boeiende speurverhaal waar die leser nie vinnig genoeg kan omblaai nie."

Op LitNet is Jonathan Amid net so komplimentêr oor Waar boosheid broei: "Krige is ’n bloedhond, ’n man van min woorde. Teen die einde van Ou bloed weet die leser alte goed dat ons hier met ’n besonderse tipe antiheld te doen het, een wat tot die einde sal stoei met die boosheid in homself en die boosheid wat oral om hom ’n verskyning maak. Hierdie uitmergelend-lekker misdaadroman het egter uitgeroep om ’n vervolg, die derde in die Thys Krige-reeks, en dis waar Venter vir lesers sy mees mistroostige, donker en genadelose meditasie op die bose bied: Waar boosheid broei. (...)

"Venter wil die leser se vermoë om tussen reg en verkeerd, goed en kwaad, boosheid en goedheid te onderskei, met ’n besliste aanslag omverwerp en beproef.

"Aangesien Venter reeds teen dié tyd vir lesers ’n presiese padkaart met sy vorige romans gebied het van wat om te verwag – verwikkelde spanningslyne, ’n uiters onheilspellende atmosfeer, oortuigende, fyngepoleerde dialoog, klipharde en meedoënlose sielkundige beskouings van die bose, ’n getraumatiseerde dog hardgebakte protagonis wat sukkel om iets meer te doen met sy seksuele verhouding met die verslaggewer Robyn, ’n fyn aanvoeling vir nuanse wat menslike gedrag betref, en die bereidwilligheid om karakters tot op breekpunt te dryf met geloofwaardige dog moeisame fisieke en veral sielkundige uitdagings – sal dit deug om hier slegs te noem dat Venter 'meer van dieselfde' vir sy lesers bied.

"Dis egter besonder opvallend presies hoe genadeloos die teks Krige se sielkundige aftakeling met baie kort, kragtige sinne weergee en op ’n uiters minimalistiese dog geslypte vertelstyl staatmaak. Waar Ou bloed meer afwisseling gebied het, is Waar boosheid broei op die man af, uitdagend en seningrig gespierd in sy benadering. Dis dalk net genoeg om menigte lesers onder hul kussings te laat inkruip, en om ’n tikkie ligte humor hier en daar te smeek, maar vir ’n genre-hardebaard soos ek was dit baie geslaagd.

"Ons het hier met meer as net genre-vermaak te doen. Daar is weinig kans vir die leser om asem te skep soos wat Venter die spreekwoordelike vuishoue op die leser laat reën. Etiek, moraliteit en geregtigheid, tesame met die aard en betekenis van die bose, is die gewigtige onderwerpe wat hierdie gerekende skrywer geslaagd ondersoek. Hierdie keer is dit dalk nie so ’n grusame en brutale geestesaanslag soos die geval was met Ou bloed, waar Krige se familie-intrige dalk tog daardie ietsie ekstra bied wat nie altyd hier te bespeur is nie, maar Waar boosheid broei is steeds ’n roman wat sielkundige ondersoek en sosio-politieke kommentaar net so hoog ag as om lesers te vermaak. Glad nie maklik nie, maar hier is die stryd gewonne."

Peet Venter stel nie sy lesers wat gereeld ’n nuwe boek uit sy pen verwag, teleur nie. In 2015 verskyn die volgende Thys Krige-verhaal getiteld Plasenta. In Plasenta bring die skrywer baie van die drade wat in vorige boeke agtergelaat is, bymekaar.

Krige se motief in Plasenta is weer persoonlik wanneer hy begin ondersoek instel na sy halfsuster wat 15 jaar tevore verdwyn het. Ook moet sy meisie, Robyn, se dood ook verklaar word.

"Krige se ondersoek is besaai met eksotiese karakters, plekke en raaisels wat die leser boei, terg en fassineer," skryf Riaan Grobler in Die Burger van 16 Mei 2015. "Op die spoor van ’n Turkse sluipmoordenaar maak Krige ’n draai in Maputo - die plek vanwaar hy vermoed sy suster na Pakistan ontvoer is. Daarna is dit Ciprus waar Krige deur booswigte gevange geneem word, en dit is hier waar die leser en Krige behoorlik begin kopkrap. Veel meer wil ek nie oor die verhaal self sê nie, anders gee ek die hele ding weg, want die merkwaardigheid van Plasenta – soos met Venter se vorige werke – is die ekonomie waarmee hy skryf. Dis ’n ou skrywershand wat hier besig is, want elke sin en gebeurtenis is geweeg en gestroop van enigiets oorbodig.

"Naas (Deon) Meyer is Venter my gunsteling-spanningsromanskrywer. Maar waar Meyer se boeke soos ’n hoofstroom-polisiereeks op TV voel, is Venter se skrywes eerder donker, broeiende rillerflieks. Meyer se Bennie Griessel is ’n Huisgenoot-held terwyl Venter se Thys Krige soos ’n gebroke Gotiese strokiesprent-antiheld dié randfiguur van die spanningsromangenre in Afrikaans geword het."

Op LitNet sluit Madri Victor haar resensie oor Plasenta as volg af: "Plasenta is die hoogtepunt van Venter se Krige-reeks en ’n adrenalien-rush. Dis naelbytlekkerte, beter as enige aksiefliek, met Thys Krige as ’n tipiese James Bond in die hoofrol. Dit vra vrae oor reg en verkeerd, waar die grense van etiek en moraliteit is en of  ’n mens jou optrede kan regverdig mits jy dit met 'suiwer' intensies doen. Peet Venter posisioneer hom met hierdie reeks in die groep briljante krimi-skrywers in Suid-Afrika. Vergeet maar van fliek by Ster Kinekor – jy sal Plasenta in een sitting wil deurlees en veel meer plesier daaruit kry."

Later in 2015 word Lem gepubliseer en stel Peet ’n nuwe karakter, Lemmer Bosman, ook bekend as Lem, aan sy lesers bekend. Hy is ’n lid van die destydse weermag se spesiale magte. Ná 1994 sluit hy by ’n sekerheidsfirma aan waar hy betrokke raak by ’n onwettige staatsgreep in Botswana en nadat dit skeefgeloop het, beland Lem in die tronk.

In die tronk besef hy dat hy ingeloop is en ná sy vrylating het hy net een doel voor oë – om diegene wat hom te na gekom het, op te spoor en te laat betaal daarvoor.

Sterk vrouekarakters kom in hierdie verhaal na vore: Fleur Bloem, ’n blommeboer wat vir Lem onder haar vlerk neem na sy ma, ’n dwelmverslaafde en prostituut, se dood; Irma Storm, ’n verslaggewer wat Lem se lewensverhaal op papier wil sit; en adjudant Christine Watts, ’n speurder.

Op Romanza se webwerf vertel Peet meer oor die inspirasie agter die ontstaan van Lem: "Ek werk selde op inspirasie. Ek kry ’n storie in my kop, en skryf hom. In Lem gaan dit oor die individu teen die samelewing. Ek veronderstel dit kan as ’n bron vir inspirasie gesien word, want ons sit maar almal in dié posisie."

Om geloofwaardige vrouekarakters te skep was een van die moeilikste aspekte vir Peet by die skryf van Lem. "Synde ’n man, is dit maar altyd moeilik om vroulike karakters geloofwaardig te maak. In Lem se geval was dit die drie, Fleur Bloem, Irma Storm, en Christine Watts. Veral met Christine was dit moeilik om haar emosies en frustrasies as vrouespeurder in ’n omgewing wat deur mans oorheers word vas te vang."

Romanza wou ook weet oor die verskille én ooreenkomste tussen Lem en Thys Krige. Hierop antwoord Peet: "Vir my sal Lem Bosman en Thys Krige alleenlopers bly. Dit, en die feit dat hulle mense doodmaak, is die enigste ooreenkoms. Die grootste verskil is dat Krige ’n man met ’n missie is, en niks keer hom nie. Lem, daarenteen, wil net sy gebreekte lewe weer aanmekaar sit."

Riaan Grobler beskryf Lem as ’n verhaal wat boei met veral sterk vrouekarakters en wat gemaklik lees. "Daar is min ooreenkomste tussen Lem en Thys Krige, maar wat vreemd is, is die ooreenkomste tussen Lem en Deon Meyer se karakter, Lemmer. Dieselfde naam, albei oudsoldate, albei was in die tronk ... Maar dis waarskynlik toevallig.

"Venter is ’n gesoute skrywer wat ’n verhaal met verskeie kinkels en storielyne naatloos aanmekaar kan flans. En Lem is ’n sout-van-die-aarde-karakter by wie vele lesers aanklank sal vind."

In 2017 is Peet terug op die boekrakke met Brand en hierdie slag is Thys Krige weer aan sy sy. In ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet vertel Peet ’n bietjie meer oor die storie. Die kern van die verhaal is die politieke toestand in Suid-Afrika wat self soos ’n riller lees. "Die pres en sy kliek besef  hulle tyd om te roof raak min, maar hulle wil so lank as moontlik aan die mag klou. Hulle beraam ’n makabere plan om die reeds gespanne toestand in die land uit te buit en dit onregeerbaar te maak. Dan kan hulle ’n noodtoestand afkondig, die weermag ontplooi, die parlement ontbind en die grondwet opskort. Krige raak deur die geheime eenheid waaraan hy verbonde is, betrokke.

"Hy kom gou agter dat hy met magtige mense te doen het wat nie huiwer om dood te maak ten einde hulle doelwit te bereik nie. Dit raak persoonlik vir hom toe die twee mense met wie hy saamwerk koelbloedig vermoor word. Met die hulp van Delaré Brand, ’n rekenaargenie, ontrafel hy die komplot en kom so agter dat Sjina ’n hand daarin het omdat dit hulle imperialistiese planne pas. In die verband trek ek ’n vergelyk tussen staatskaping waarop almal so gefikseer is, terwyl sagte kolonisasie stilweg ongehinderd voortgaan agter die skerms van BRICS-handelsooreenkomste wat veral Sjina en Rusland se ekonomiese greep op Suid-Afrika verstewig."

Die prikkel vir die roman was die agteruitgang van basiese onderwys en gesondheidsdienste," vertel Peet aan Naomi Meyer. "Ook die fiasko rondom staatstoelaes. Life Esidimeni. Vra jouself af hoeveel die mense in beheer voel vir die swaarkry en lewens van gewone mense. ’n Mens kry die indruk dat dié wat aangewese is op staatsbystand vir hulle net ’n lastigheid is. Toe vra ek myself die vraag af, as hulle so behep is met hul selfverryking, hoe ver sal hulle gaan om in ’n posisie te bly waar hulle kan aanhou roof?"

Peet het ook niks aan die verhaal verander soos sekere situasies in Suid-Afrika ontplooi het nie. Hy het wel partymaal gewonder of hy nie te veel waag nie en toe, terwyl Brand in produksie was, verskyn Jacques Pauw se The president's keepers. Hierop was Peet se reaksie: "Dit het my nogal gekielie waar dit lekker is!" 

Peet was aanvanklik glad nie daarop ingestel om ’n reeks met Thys Krige as hoofkarakter op papier neer te pen nie. Vir hom voorspel ’n opvolgreeks probleme, want hoeveel keer kan jy as skrywer na vorige boeke verwys sonder om die storie oor te vertel? "Dis ’n wetter. Deur Karen (Thys se halfsuster) in die storie in te bring, het ek daarin getrap. Ek kon haar eenvoudig nie net eenkant toe skuif nie. Maar in Brand het ek dit reggekry om haar deel af te rond. Almal weet nou waar almal staan. Uitgesorteer."

Op LitNet skryf Daleen Venter dat die spanning in Brand op ’n mespunt gebalanseer word. Krige bevind hom diep in die moeilikheid sonder dat hy wou. President Zondo en sy trawante wil net een ding hê: om die land in ’n alleenheerskappy te verander. Krige probeer sy bes om agter die kap van die byl van die planne van die bewindhebbers te kom. Hy kom tot die besef dat daar met traangasgranate en basiese hulpbronne gekonkel word om die land in nog groter chaos te dompel.

"Tussendeur veg hy verbete teen sy eie donker kant wat dreig om sy lewe te oorskadu en hy moet boonop probeer sin maak van sy gevoelens teenoor drie uiteenlopende vroue: Karen, Liesl en Delaré.

Krige se verhouding met sy halfsuster, Karen, is gekompliseerd, onverstaanbaar en hy sukkel om sy eie gevoelens te peil. Tussen hom en die gestremde IT-ghoeroe, Liesl, lyk dit asof daar ’n liefdesvlammetjie begin brand en die leser wil-wil hoop kry dat dié vlammetjie dalk die donker in Krige kan verlig. En dan is daar die impulsiewe Delaré Brand wat Krige se lewe op haar ysterperd binnery en met haar reël-virtuele bewussynteorie en psigo-wiskunde dinge verder kom deurmekaarkrap.

"Voeg daarby ’n buitelandse familie met ’n hele paar vingers in die regering se geldpastei, protesoptredes wat in algehele chaos ontaard, aksietonele wat jou na jou asem laat snak én ’n grusame moord (of twee) en jy sit met ’n naelbyt-lekker storie en ’n snaarstyf spanningslyn!

"Venter vervleg ook tientalle sielkundige teorieë, veral dié van Freud en Jung, soomloos met die verhaalgebeure om die leser ook introspeksie te laat doen. Die donkerweb vol duisterhede, soos 'dwelmhandel, mense- en wapenhandel, sluipmoord, terrorisme, kinderpornografie' (bl 47), roep Freud se idees oor die menslike psige en die onbewustelike vol 'vrese, manies, fobies, irrasionele fantasieë, immorele drange, siek seksuele fantasieë' op (bl 47). Verder word die spel tussen Jung se begrippe van lig en donker, positief en negatief deurgaans met die storielyn vervleg en die leser sien later hoe die donker kant in sekere karakters oorwin.

"Krige en sy skop-en-trap-skoene (bl 158) is die toonbeeld van ’n aksiefliekheld – sy optrede is onvoorspelbaar, hy is onmoontlik dapper en hy laat hom nie deur enigiemand stuit nie. Die ontwikkeling van al die karakters in Brand is meesterlik gedoen en elke karakter kry ’n outentieke stem.

"In hierdie roman word ’n hele rits geheime onverbiddelik blootgelê en die grense tussen reg en verkeerd word telkens uitgedaag. Sal Krige en Delaré se blootleggings enigsins help om die brand in die land te blus? Is daar werklik iets soos verbode liefde en is die gevolge daarvan regtig so erg soos wat die samelewing ons laat glo? Is dit moontlik dat die mens se ligkant sy skadukant kan troef? Oor dié vraagstukke kwel jy jou tot aan die einde van hierdie roman. En wees gewaarsku: Jou nerwe sal tot op die laaste bladsy aan flarde wees en dis hoogs waarskynlik dat jou dagtake agterweë sal bly vir die volle duur van dié roman –Venter sorg dat Brand moeilik neergesit word."

In Die Burger (4 Desember 2017) is Riaan Grobler se finale oordeel oor Brand as volg: "Venter kry dit reg om in die leser se psige te klim en hier en daar ’n onverwagte (maar ’n berekende) kinkel agter te laat. Hy skep moeilike uitdagings vir sy karakters en bied nie maklike antwoorde of oplossings nie. Brand bevestig Venter se stand as dié randfiguur van spanningsfiksieskrywers."

Binne ’n jaar is Peet Venter se volgende boek op die winkelrakke in Suid-Afrika onder die titel Soos ’n diep waterkuil. Die teksvers in die Bybel, Spreuke 23:27, "’n Sedelose vrou is soos ’n diep waterkuil, ’n verleidster is soos ’n put waaruit jy nie kan kom nie," staan sentraal in hierdie verhaal.

In Die Burger van 3 Desember 2018 is Francois Bekker van mening dat die moordenaar godsdiens en morele oordeel gebruik om sy dade te regverdig – "iemand wat homself as regter en laksman aangestel het".

Thys Krige is nie in die verhaal die ondersoekende beampte nie. Speuradjudant Boel Helberg is die man wat die moordenaar moet opspoor. Die moordenaar het hom gebel om hom na die slagoffer se liggaam in die Wemmerpan te lei.

Bekker gaan voort: "By nadere ondersoek blyk dit ’n skendmoord op ’n jong vrou te wees. Dis nie waar dit ophou nie. Nog twee lyke is elders in die stad versteek. Kriptiese leidrade is deur die moordenaar verskaf wat die speurder moet opvolg om hulle op te spoor. (...)

"Soos die ondersoek sy loop neem, ervaar Helberg konflik op twee vlakke. Dat daar enigsins ’n siek persoon rondloop met reeds drie lyke op sy kerfstok, is genoeg om enige ondersoekbeampte slapelose nagte te besorg. Namate hy leidrade opvolg, ontvou ’n verhaal van jaloesie, gierigheid en bedrog. Helberg se bekommernis oor sy vrou en dogtertjie, Ellie, is een van die aspekte van die storie wat Venter veral goed uitbeeld.

"In die ontvouing van die verhaal word die onderwêreld van misdaad met verrassende kinkels verken. Wat onder die loep geneem word, is die verskynsel van goed en kwaad in die lewe. En die verlies van onskuld. Hier en daar is ’n karakter wat baat sou kon vind met verdere ontginning. Neem die karakter van Ben Klein as voorbeeld. In sy leefwêreld is daar nie ’n markante onderskeid tussen goed en kwaad nie.

"Soos ’n diep waterkuil is ’n onthutsende konkoksie van wellus, moord en jaloesie. Venter se aanslag is sonder fieterjasies en hou die leser tot aan die einde vasgenael."

Op ’n vraag van Carla van der Spuy oor hoekom sy reeksmoordenaars intelligente mense is, antwoord Peet: “Ek maak my reeksmoordenaars intelligent en gesofistikeerd om die psigiese kontraselement meer dramaties te maak: die konflik in die beskaafde, hoogs ontwikkelde brein waar daardie barbaarse geweldenaar ook skuil. Wat maak dat die dier die mens op die agtergrond stoot? Dit sal seker ook werk as die moordenaar ’n doodgewone, vaal ou is wat heeldag in ’n kantoor sit, en by die huis sit sy vrou op sy kop. Maar vir my is dit net soveel lekkerder as hy ’n professor of rekenaarfoendi is. Dit is net soveel lekkerder as so ’n slim moordenaar daardie een foutjie maak wat Krige uiteindelik raaksien. Dit is so lekker soos ’n taai toffie wat aan jou tande vassit as Krige weet daardie foutjie moet daar wees, maar hy sukkel om dit raak te sien.”

Van der Spuy wou verder weet of Peet ook, soos talle ander, voel dat moordenaars nie hard genoeg gestraf word in Suid-Afrika nie en hoe hy oor die doodstraf voel.

Vir Peet is dit bloot menslik vir ’n skrywer om in sulke situasies deur die karakters en gebeure uiting te gee aan sy eie gevoelens, maar hy meen dat dit egter versigtig hanteer moet word (aan Carla van der Spuy op LitNet). “Ons kan ons vergeldingsdrome droom en ons wraakfantasieë koester, maar moet nooit ons etos vergeet nie. Die frustrasie en gevoel van magteloosheid is wel daar; om grondige redes, maar om die reg in eie hande te neem, is verkeerd. Die enigste wat daardeur bereik kan word, is om ons nóg verder in die moeras van anargie en barbaarsheid in te sleep. Ons het ’n regstelsel, hoe verwarrend ook al. Laat ons dan liewer ons energie aanwend om deur die regte kanale weer orde uit die verwarring te probeer skep. Hoe? Deur minder apaties te wees, en proaktief te wees. Dit raak ons almal. Daar is meer aan die lewe as eet, slaap, werk en speel.

“My etiek sê vir my die doodstraf, al dra dit sogenaamd wetlike goedkeuring, lê op dieselfde vlak van barbaarsheid as moord. My gemoed sê: hang die wetter, veral as kinders die slagoffers is. Ek is sensitief oor kinders. Dit was vir my swaar om die onderwerp van veral kinderhandel te hanteer. Pedofilie het mos deesdae ten minste die verskoning dat dit ’n ‘sielkundige afwyking’ is. Vir mensehandel is daar geen verskoning nie. Dit is bloot barbaarse winsbejag. Hoe dieper ek navorsing gedoen het, hoe meer het ek begin twyfel of ek kan voortgaan daarmee. Hoe behou ’n mens objektiwiteit? Is dit hoegenaamd moontlik om objektief te bly? Dit is die rede waarom ek in Ou bloed nie te veel op die daad spesifiek uitgebrei het nie, dit so bondig en op die man af as moontlik gestel het, en meer gekonsentreer het op die invloed wat dit op naasbestaandes het.”

Peet het sedert 1982 op sy plaas, Seringveld, in die Pretoria-omgewing gewoon, waar hy al sy liefhebberye kan beoefen soos die tyd dit toelaat.  Hy komponeer ook musiek op sy rekenaar. Hy is getroud met Jauna van Loggerenberg en hulle het twee kinders, Witze en Andrea.

Hy woon egter deesdae op ’n plaas in die Dinokeng-reservaat naby Pretoria en het in 2000 semi-afgetree het, maar werk steeds deeltyds as raadgewende ingenieur. Sy vrou, Jauna, is in 1999 oorlede, maar “ek is daardeur en gaan aan”.

Oor ’n vraag wat hy ons nog van sy grootwordjare kan vertel, antwoord Peet as volg aan LitNet: “My grootwordjare verder? Wat is daar nog om te sê? Jy weet, daar is grootword, en daar is grootword. Die liggaam, en die mens. Ek dink die mens word groot van geboorte tot dood. In die tienerjare is jy erg bekommerd oor wat mense van jou dink. In die twintigs en dertigs gee jy nie ’n hel om wat mense van jou dink nie. In die veertigs en verder, besef jy mense het hoegenaamd nie aan jou gedink nie. Dis maar soos dit gaan. Ek is vandag ’n senior burger, wat beteken ek is flippin oud. Almal sê vir my oom. Maar dis orraait. Dis nog nie nodig dat iemand anders my omgord nie. Ek trek nog self my sokkies en skoene aan, hoef nie op die bed te sit om my broek aan te trek nie. Ek kan nog my seerkry en vreugdes ‘handle’, onthou nog wat my kinders se name is.”

Oor sy skrywery vertel Peet aan LitNet: “Ek gaan sit en ek skryf. Geen raamwerke of diagramme nie. Die stories is in my kop – baie van hulle. Net navorsingnotas. Deesdae doen ek meeste navorsing in Google, maar dit bly maar lekker om in boeke, ensiklopedias, of argiewe rond te krap. Ek hoef nie iets te drink of te rook om aan die gang te kom nie. Ek luister na barok, klassieke, en romantiese musiek as ek skryf. Albanoni, deur Bach en Brahms, tot by Albeniz. Dis seker in ’n sekere sin my muse, maar ek kan daarsonder ook klaarkom. Eskom-krag, jy weet. Wil nog ’n paraffien- of steenkool-CD-speler ontwerp.  Ek kyk by my studeerkamervenster uit na die koedoes, duikers, blesbokke, vlakvarke, tarentale wat in my tuin wei of sommer net lê en ontspan. Dan skryf ek verder.”

In LAPA se besprekingsinligting oor Ou bloed word die volgende gesê oor Peet se skryfwerk: “Peet Venter skryf met min woorde. Of so voel dit. Daar is nooit langdradige beskrywings en hortende morele preke nie. Die boek lees so vinnig, ek was verbaas toe ek nou weer na die agterste bladsy kyk en sien daar staan 303 op. Dit voel nie so nie.

“Hoe kry hy dit reg? Dié vraag het my ’n oomblik geboei, want ek het gesukkel om te verstaan wat sy geheim is. Toe ek egter weer daardie eerste paar bladsye lees, toe weet ek: Venter skets eintlik vir die leser ’n film. Ons belééf die hele tyd. Jy is sáám met die moordenaar, dan is jy sáám met Krige, of jy is by Shirdi Mayet, jy leef saam met haar wanneer sy haar broodjie koop en wag dat die moordenaar haar kom ontmoet. Op hierdie manier beleef ’n mens ook die rassisme teen Dlamini, jy word nooit vertel hoe sleg rassiste is nie, dis nie nodig nie. Peet laat ons eenvoudig toe om saam met Krige en Dlamini te ry en die storie deur hulle oë te beleef.

“Ek gaan van nou af Peet se boeke aanbeveel vir enige een wat sukkel om te show in hulle skryfwerk. Baie mense haak vas by beskrywings en morele vraagstukke en lewenslesse. Peet Venter donder voort, hy boender jou in die storie in en hy sleep jou saam op ’n mallemeulereis deur sy storie. Kyk mooi: Jy sien die hele tyd die gebeure. Dit voel of jy na ’n film kyk.”

In Oktober 2013 is ’n skrywersgesprek oor misdaad en dwelms by die Laerskool Voorpos in Waverley in Pretoria deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere asook enkele uitgewerye aangebied. Peet het ook aan hierdie gesprek deelgeneem.

Oor die oplewing in misdaadfiksie in Suid-Afrika het Peet gesê: “Lesers is in die jare 60 vervreem van ligte ontspanningsliteratuur in Afrikaans. Akademici het indertyd die ’nuwe denke’? van die Sestigers aangegryp. “Vurige resensies het verskyn en debatte is in die pers gevoer. Dit was groot nuus. Intussen het die hoofstroomfiksie maar sy rustige gang geloop. 

“Uitgewers het hul boekklubs gehad. Daar het wel boeke met meriete buite klubverband verskyn, maar daar was eintlik nooit uitgebreide resensies hieroor in die pers nie en in akademiese kringe is hulle doodgeswyg. Dit het intussen verander. Meer onlangs het ’n jonger geslag akademici weer begin kennis neem van populêre fiksie. Hulle lewer positiewe kommentaar waar daar meriete is.

“Deon Meyer het plaaslik ’n belangrike rol gespeel in die opbloei van misdaadfiksie. Ek dink ook uitgewers het meer aggressief begin bemark, met die gevolg dat ander Afrikaanse misdaadskrywers nou baie meer blootstelling kry in die media. Nog ’n faktor kan wees dat ons vandag met soveel geweld en misdaad moet saamleef dat lesers ’n soort ontvlugting vind in misdaadstories waar die speurderheld die kriminele die een ná die ander laat aftjop en reg laat geskied.”

“Die morele klimaat het ook baie verander sedert my skryfdebuut in 1979. Toe ek begin skryf het, moes jy by ‘magtig’ en ‘bleddie’ hou; as jy begin ‘donder’ dan is die wenkbroue gelig.”

Peet is al beskryf as ’n skrywer van “min woorde maar diep insig”. Hierop reageer hy: “Ek is self lief vir lees. (’n Skrywer wat nie lees nie, maak ’n groot fout.) Maar ek het ’n ongeduld ontwikkel met skrywers wat mens laat verdrink in ’n vloed van onnodige woorde – seker omdat my leestyd so beperk is. Toe ontwikkel ek ’n manier om boeke te kies. Eerstens moet die titel my aandag trek, maak nie saak wie die skrywer is nie. Dan haal ek die boek van die rak af en lees die eerste twee sinne. As dit my nie boei nie, gaan die boek terug op die rak. As die eerste twee sinne my boei, lees ek die eerste twee bladsye. As ek dit wat die skrywer in twee bladsye sê, in twee of drie paragrawe kan sê, gaan die boek terug op die rak. As ek dit nou wragtag nié in minder as ’n bladsy en ’n half kan sê nie, al probeer ek, koop ek die boek. Dus, in my eie skryfwerk waak ek gedurig teen oorbodige woorde.

“Diep insig? Sjo! Ek luister na wat mense sê, hoe hulle dit sê. Ek kyk na hul lyftaal. Verder is dit seker maar ’n kwessie van lewensondervinding.” (aan Carla van der Spuy op LitNet)

Carla van der Spuy wou by Peet weet hoeveel van Krige se karaktertrekke is ook by hom te bespeur en hoe die twee verskil, indien wel? "Natuurlik word die skrywer se sienings, gevoelens, voorkeure en renonse in die karakters geprojekteer, maar dit moet so gedoen word dat dit hulle eie word deur dialoog, gedagtes, handelinge. Laat hulle die storie vertel. Dis nie altyd maklik nie, maar met ondervinding leer mens om uit jou storie te bly sonder om daarvan verwyder te wees. Wat ’n leser van die skrywer uit sy stories kan agterkom, hang af van hoe diep die storie is en hoe diep die leser lees. Dis seker onafwendbaar dat iets van die skrywer in sy karakters geprojekteer word. Onvermydelik sal daar iets van my in Krige wees, anders sal hy nie vir my lééf nie. My innerlike verwysingsraamwerk is sy bloudruk, plus ’n paar dinge wat ek graag sou wou wees as ek die moed gehad het. En ja, minus die voorkoms, jeugdigheid en welvaart.

"Ek dink hoeveel van die skrywer ingebou word – goed en sleg – en hoe openlik en eerlik dit gedoen word, bepaal tot ’n groot mate die geloofwaardigheid van die karakters. As ek as skrywer nie met ’n karakter kan assosieer nie, hoe kan die leser?

"Dus, ja, daar is heelwat van my in Krige. Die stil geaardheid, die denker, die keuse om afgesonderd in die natuur te woon en die onwrikbare geloof in geregtigheid. Miskien verskil ek van hom wat die geweld betref, maar as ek deesdae so na die nuus kyk, is ek ook nie meer altyd so seker daarvan nie. Daarom dat ek ’n afleier soos hy het. En ek is oud, lelik, en arm."

Peet is nie net skrywer en ingenieur nie; hy is ook baie lief vir musiek en beeldhouwerk. Hy beskou homself as ’n jack of all trades, met die stukkie master of none bygelas. "’n Mens moet realisties wees en keuses maak. My eerste liefde lê by musiek, maar ek is net nie goed genoeg daarmee om ’n lewe daaruit te maak nie. Daar bly musiek toe in die slag. Ek skilder en maak beelde van wat ek sien, soos ek dit sien. Ek weet nie hom om emosionele boodskappe daarin te sit (kodeer?) nie. Ek kyk na ander kunstenaars se werk en dis vir my mooi of lelik. Punt. Daar bly skilder en beeldhou in die slag.

"Om ’n lewe te maak, wend ek my toe na my tegniese aanleg, en na skryf om sinvolle uitdrukking – wat ek ook verstaan – te gee aan al die strooi hierbinne. Beide skeppend. Genoeg vir my."

Publikasies:

Publikasie

Die alleenlopers

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628013671 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekker-Boekklub

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die reuk van rose

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799322466 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dieper as die bloed

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799323241 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Disa DISA

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799322636 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die koeël is deur die kerk

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323497 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Middernagblou

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799324132 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Nag van die narre

Publikasiedatum

1998

ISBN

079932499X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Vlieg, duifie, vlieg!

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326259 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

In kringe: ’n verhaal in drie stemme / Saam met GA Watermeyer en Estelle Marais

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326852 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

3 van die bestes. Saam met François Bloemhof

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799328367 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Slang, die onbesonge held

Publikasiedatum

2009 (Grootdruk)

ISBN

Nie bekend

Uitgewer

Nie bekend

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dieper as die bloed

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2013

ISBN

  • 9780799358339 (sb)
  • 9780799357745 (e-boek)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ou bloed

Publikasiedatum

  • 2013
  • 2014

ISBN

  • 9780799361292 (sb)
  • 9780799361575 (e-boek)
  • 9780799361810 (mobi)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar boosheid broei

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799368499 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Plasenta

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799373790 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lem

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799376487 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brand

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799386141 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soos ’n diep waterkuil

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799388312 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Peet Venter beskikbaar op die internet:

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Peet Venter (1940–) appeared first on LitNet.

Christine Barkhuizen le Roux (1959–)

$
0
0

Gebore en getoë

Christine (doopname Cornelia Christina) Barkhuizen is op 18 November 1959 in Vryburg in die Noord-Kaap gebore. Sy, haar broer en haar suster word groot in ’n “padmakersgesin”. Haar pa was ’n dieselwerktuigkundige wat aan masjinerie soos padskrapers, stootskrapers, laaigrawe, ens gewerk het. Haar ma, ’n huisvrou, se passie was, en is, haar kinders. Hulle trek tussen die jare 1954 en 1980 rond tussen verskeie dorpe in die ou Kaapland, waar daar toe deur die regering hoofpaaie tussen die dorpe gebou is. Die drie kinders woon gesamentlik sewe verskillende skole by as gevolg van die voortdurende verskuiwing.

Christine vertel aan Elmari Rautenbach (Huisgenoot, 10 Junie 2010) dat haar pa ’n padmaker was. "As kind het ek en my ouer broer en jonger sussie so saam met ons ouers van padkamp tot padkamp getrek. Dit was ’n swerwersbestaan en die 'regte mense' het meestal met ’n gesonde dosis afkeer na die bewoners van die tydelike Masonite-huise gekyk.

"Ek was baie na aan my pa, maar het my ma nogal laat swaar kry. Ek was ’n moeilike kind, rebels, 'anders'; vinnig om my mening te lug, vinnig om te sê as ek nie saamstem nie."

Christine vertel aan Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat dit ’n sub B-juffrou (juffrou Aucamp) op Steynsburg in die Oos-Kaap was wat haar liefde vir die letter vasgeknoop het. “Boeke was van altyd af ’n manier om ook op ander plekke te kan wees as daar waar jy jou bevind. Dié juffrou het hierdie leesgierigheid aangewakker. Ek onthou hoe ons as kinders elke Vrydagmiddag biblioteek toe gegaan het en teruggekom het met ses boeke onder die arm.”

Haar eerste leeservaring was vroeg in haar lewe. Sy vertel (Rapport, 6 Mei 2007): “Die eerste keer dat ek self ’n verhaal gelees het, was in die jaar voor ek skool toe is – een van my broer se st 2-boekies. Oor ’n man wat waatlemoene verkoop langs die pad. Toe ’n vrou laatmiddag die laaste waatlemoen wil koop, wys hy haar ’n steekplek en raai haar af om dit te koop. Iets aan die egtheid van die man, van die storie, bly by my. Ek wil só skryf dat mense terugkom om ’n waatlemoen te koop, en geloofwaardig bly.”

Tydens ’n onderhoud met Elna van der Merwe na die verskyning van Drieklawerblaar in 2016 vertel Christine hoe haar skeppingsdrang reeds as kind na vore getree het: "Van kleins af wou ek graag dinge maak. Ek onthou my sussie was dikwels kwaad vir my, want as sy ’n speletjie wou speel, wou ek dit self maak. En as dit klaar was, wil ek nie verder daarmee speel nie.
"Ek onthou hoe ek in Queenstown, toe ek tussen twee en ses jaar oud was, op die agterstoepie gesit het en met verskillende kleure klippies op die sement geteken het. Opstel skryf op skool was vir my die lekkerste, want dan kon ek self iets maak. Ek hoef nie wat iemand anders geskryf het, te memoriseer nie.

"Die skrywer, Mark Haddon, het gesê 'as ek nie skryf nie, voel ek soos ’n hond wat nie uitgelaat word nie'. Dit is presies soos ek voel."

Ook haar liefde vir Nederland en Nederlands het sy ontstaan in haar kinderjare gehad: "Toe ek ’n kind was, kon ’n mens Die kinders van die wêreld-boeke nog uitneem. Ek het daardie boeke oor en oor en oor uitgeneem en die land waarheen ek wou gaan, was Holland. Dit was altyd iets wat my bygebly het. In matriek het ons ’n voorgeskrewe boek, Karakter, gehad. Tussen die pa en die seun in die boek het daar iets afgespeel wat my my lewe lank bygebly het." (Eikestad Nuus, 17 Oktober 2016)

Verdere studie en werk

Christine studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in 1980 haar BA-graad behaal met Bybelkunde en Sielkunde as hoofvakke.

In 1980, kort voor haar gradedag en haar 21ste verjaardag is haar pa op 47-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede. Haar ma se beserings was so ernstig dat sy nie die gradeplegtigheid kon bywoon nie. "Dit het my omtrent 15 jaar gekos om die skok te verwerk," vertel sy aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot. "Uit so iets moet ’n mens vir jouself sin maak. Uiteindelik het ek ’n gedig geskryf oor ’n meisietjie wat by die hek wag dat haar pa huis toe kom. Ek het dit eenkeer by die KKNK vir Hans du Plessis gegee om te lees. Sy kommentaar was: 'Christinatjie, dis nie ’n gedig dié nie, dis ’n roman ...'"

Haar pa se afsterwe het ’n baie groot invloed op die res van Christine se lewe gehad, vertel sy aan Elmari: "Ek's allermins ’n smartvraat, maar daardie intense verlies wat ek destyds ervaar het, het by my ’n deernis geskep vir mense wat verlies ervaar. My sielkunde-professor op Stellenbosch, Herman van Niekerk, het destyds vir ons gesê ’n sielkundige moet saam met die kind wat bang is vir spinnekoppe, onder die tafel gaan sit en sy vrees sáám met hom ervaar. Ek dink die dood van my pa het gemaak dat ek daardie empatie met mense kan hê."

Sedert 2001 studeer sy verder en behaal in 2002 haar honneursgraad cum laude aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy volg dit op in 2005 met ’n meestersgraad, ook cum laude, in Afrikaans en Nederlands met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. Haar skripsie fokus op die poësie van die Joods-Nederlandse digteres Judith Herzberg, met Wium van Zyl as haar studieleier.

Christine begin in 2006 met haar MA in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden. Sy was ook die wenner van die beurs vir Skeppende Skryfwerk wat deur NB Uitgewers en die Departement van Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad toegeken word. Sy slaag hierdie graad met lof en die roman wat sy as Meestersprojek voltooi het, word in 2010 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Padmaker.

Christine woon saam met haar man, Bertus le Roux, ’n wyn- en vrugteboer, op ’n plaas 30 kilometer vanaf Barrydale in die Suidwes-Kaap. Hulle het drie kinders, Joané, Albert en Carli. Sy meen dat die afgesonderde leefwyse op die plaas en in ’n kleindorpse gemeenskap ’n definitiewe invloed op haar skryfwerk het. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.

Sy erken teenoor Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat sy nie ’n goeie boervrou is wat melktert bak en ander boervroudinge doen nie, maar dat sy baie lief is vir die ghwarriebome en die grysgroen van die Klein Karoo. “Dít, dink ek, is wat my tot skryf gedwing het. Die afsondering hier, dertig kilometer buite Barrydale. Die natuur het my klankbord geword. Barrydale is my gemeenskap, ook my kerk.”

Een van Christine se groot liefdes is lees. Sy voel dat as jy lees, “reis” jy na ander plekke, situasies, mense. “Wie lees, leef soveel meer lewens as maar net een. En dis iets wat ek so dikwels dink: as ek meer lewens kon hê, want daar’s soveel wat ek nog wil sien, beleef en deel wees van. En as jou kinders jou sien lees, en die plesier wat jy daarin het, sál hulle lees – daai ou ding van woorde wek, voorbeelde trek.” (Rapport, 28 Mei 2006)

In 1994 woon Christine ’n ATKV-Skryfskool by en daarna is heelwat van haar gedigte in die letterkundige tydskrif Literator opgeneem. In 1999 is sy weer na ’n ATKV-Skryfskool, waar die poësiekursus deur Breyten Breytenbach aangebied is. Dit was vir haar ’n groot aansporing toe hy gesê het hy kan sien sy “begin haar eie stem hoor”.

“Ek is eintlik Christine le Roux,” vertel sy aan Willemien Marais (Volksblad), “maar toe ek begin skryf het, was daar klaar ’n Christine le Roux. Eleanor Baker het soms onder die skuilnaam Christine le Roux gewerk, en ek kon beslis nie met iemand soos Eleanor Baker meeding nie! Gevolglik het ek besluit om my nooiensvan tot die vergelyking toe te voeg.”

Christine het artikels en kortverhale vir Insig geskryf en van haar kort prosa verskyn ook in Rooi Rose. Tussen 2000 en 2006 word verskeie van haar gedigte en/of verhale in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings opgeneem, soos Schoon Schip, Altijd Dichtbij, Kostbare momenten, Vrede sluiten is wegen openen, Een honderd dichters 3, Mense is mense, Metafore van herlewing, As die son kom oogknip, Honderd jaar later, Vers  reise en Woordreise. In 2005 en 2006 is van haar gedigte en kortverhale in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Van haar verse is ook in Groot Verseboek opgeneem.

In 2000 het John van Reenen, die diskusgooier, haar na ’n voorleesaand op Stellenbosch in die Dorpstraat Teaterkafee genooi. Die digter Ronnie Belcher het sulke aande gereël waar digters kon voorlees en daar was ook geleentheid vir ongepubliseerde digters van die vloer af. Christine se vriendin Cobie Cilliers het voorgestel dat sy ’n boekie van haar gedigte maak om daar te gaan uitdeel. Sy het die aand haar gedig “roudiens” voorgelees, maar nie die indruk gekry dat sy enigiemand “geraak” het nie. John het die boekies uitgedeel en Ronnie Belcher het ook een gekry.

Christine vertel op LitNet: “Twee maande daarna kom ek by die huis en my man sê: ‘Ronnie Belcher het gebel; hy soek jou – jy moet hom terugbel.’ Ek het dit gedoen sonder om enigsins opgewonde te raak, want ek het teen daardie tyd al harde lesse geleer oor mense, uitgewers, ander digters en lesers wat hulle nie aan die poësie steur nie; veral glad nie belangstel daarin om te kyk na die werk van nóg ’n ou (boer) vroutjie – soos Ronnie later gesê het om my siel uit te trek – wat nou ook gedigte wil skryf nie. Dus, ek het gebel, maar sonder om ooit te dink dat Ronnie dalk dink daar steek iets in my werk.

“Wat hy my oor die telefoon gevra het, was ‘Het jy nóg van hierdie gedigte?’ Ek het gesê, ja, ek het, en hy het gesê, ‘Stuur dit vir my.’ Ek het gesê ek sal dit pos. ‘Nee,’ het hy gesê, ‘faks dit, dis baie gouer.’ Die faksmasjien (wat ons nou nog het) het Noag gebruik om die buitewêreld te laat weet hy sit op Ararat, en dit het ure geneem om die omtrent 60 gedigte deurgestuur te kry. Maar ek het nie verwag dat hy dit ernstig sou opneem nie. In hierdie lewe is daar min mense wat ander sommer help – daar is uitsonderings, en ek het agterna met nog sulkes te doen gekry – maar dit is nie ’n algemene ding nie. Veral nie met iets soos poësie nie.”

Intussen is Christine en Cobie deur Marzanne Leroux-Van der Boon genooi om na die Afrikaanse Skrywersvereniging se jaarvergadering in die Kaap te gaan. Ronnie het ook gebel en vir nog gedigte gevra, aangesien hy baie goeie goed gevind het. Christine het gemeld dat sy Kaap toe gaan, maar Ronnie het ’n ander afspraak vir dieselfde aand gehad.

Die aand van die vergadering was die hoofspreker nog aan die praat toe Ronnie ingestap kom. “In sy hand het hy ’n bruin papiersak gehad, soos iemand wat op pad was om êrens ’n skof handewerk te gaan doen en sy toebroodjies daarin saamgeneem het. [...] Toe die vergadering verdaag vir die teepouse, het Ronnie na my toe gekom en gesê ek moet by hom kom sit en tee drink, want hy wil met my praat. [...] Hy het gevra of ek van my gedigte die dag daar het. Ek het gesê ja, ek het, want Marzanne het gesê ek moet iets lees, en toe vir hom gevra: ‘Maar wat dink jy? Dink jy ek moet lees, of nie?’ Sy antwoord was: ‘Ja, ek dink definitief so, en ek sal jou ’n baie goeie rede gee hoekom ek dit sê – want jou eerste bundel is vandag gepubliseer ...’ Hy het die papiersak wat langs hom op die vloer gestaan het, opgetel en ’n stuk of agt proewe van die bundel dimensie uitgehaal.”

In De Kat skryf Wium van Zyl (Februarie 2001) dat dimensie een van die sterkste en mooiste eerstelinge in ’n lang tyd is. "Die gedigte betrek ’n wye verskeidenheid temas – boervroue, verplant na harde, vreemde streke word stem gegee. Die veelvlakkige aandag aan die natuur is deel van ’n ryk verkenning van die menslike bestaan. dimensie bied egter ’n oes aan wysheid en sensitiwiteit in keurige verse uit ’n landskap waar ver en helder gekyk word, iets wat poësieliefhebbers nie mag mis nie.”

In Volksblad van 13 November 2000 skryf Bernard Odendaal en Sulette Bruwer dat die bundel nie sonder "mankemente is nie (hier en daar ’n gesogtheid, of ’n versierseltjie wat nie so funksioneel is nie). Al die gedigte bereik nie ruimer dimensies nie, tog is dit ’n goeie debuut wat van aansienlike digterlike rypheid en geslyptheid getuig. Hulle voel dat sy met haar debuutbundel ’n belangrike bydrae lewer tot die plaasliteratuur in Afrikaans en spesifiek op die gebied van plaasdigbundels waarvan daar maar enkeles in Afrikaans is. In dimensie word die boervroubestaan enersyds as ’n uitdagende, soms moeilike bestaan geteken; andersyds as ’n wêreld wat veel skoonheid en wonderbaarlikheid inhou. [...] Dit sou egter ’n verskraling van die bundelgegewe wees om dit te reduseer tot die verwoording van die plaaslewe. Die kompleksiteit van geometriese vorme waaruit (deur die digter self) geskilderde figuur op die voorblad opgebou is, illustreer reeds die veelkantigheid van ervaringe waaroor dit in die bundel gaan.”

Hoewel Joan Hambidge (Die Burger, 12 Maart 2001) meen dat die bundel nooit uitgegee moes gewees het nie, is Fanie Olivier van mening dat daar verse in hierdie bundel is wat vir sekere lesers baie sal kan beteken en "wat bowendien die sê-krag van Afrikaans bevestig".

Vir kritiek skrik Christine nie, hoewel die resensie van Joan Hambidge oor dimensie haar geweldig geskok het. Dit het haar egter ook weerbaar gemaak, erken sy.

Tydens die ATKV se Skryfskool in April 2001 in Potchefstroom het Christine ’n lesing gelewer oor poësie, met verwysing na haar eie gedigte, en by die KKNK van dieselfde jaar het sy ’n voorlesing van haar gedigte gedoen tydens die program Verslantern. Sy was ook in 2001 die redakteur van PoësieNet, LitNet se poësie-afdeling.

In 2005 word Christine se kortverhaal “Persiese sprokie” aangewys as die naaswenner van die Stellenbosse Woordfees, Protea-Boekhuis en LitNet se nasionale kortverhaalkompetisie. Rachelle Greeff se verhaal “Swiets in Rhodesië” is as die wenner aangewys. Christine se ander twee verhale behaal die vyfde en sesde plekke. Haar reaksie op die tweede prys: “Ek was heeltemal oorstelp. Ek het gehoop om in die bundel opgeneem te word, maar beslis nie om ’n prys te wen nie!” (Die Burger, 10 Februarie 2005)

In Januarie 2006 word sy aangewys as een van die vyf finaliste in LitNet se Beste Prosastukke van 2005 vir “’n Persiese sprokie”.

Christine se tweede digbundel, roset, verskyn in 2006 by LAPA. Op die agterblad skryf JC Kannemeyer: “In dimensie, haar debuut van 2000, bundel Christine Barkhuizen le Roux ’n aantal geslaagde verse waarin die woordgebruik, beelding en klankgevoeligheid reeds besonder opvallend is en van ’n sensitiewe poëtiese vermoë getuig. Dit sit sy nou voort in roset, ’n versameling kompakte, kriptiese, soms ook singende verse wat die leser musies meevoer. Sentraal in die bundel staan die Griekse Phaistos-tablet waarvan die 45 simbole nog deur niemand bevredigend verklaar kon word nie. Hierdie ‘old stone that cannot be deciphered’ (TS Eliot), en spesifiek die Griekse roset in die middel van die tablet, is dan feitlik die toonsleutel vir die belangrikste motiewe in die bundel: die kringloop van geboorte, dood en herrysenis; en die verlange na die afwesige liefde. Roset is nie alleen ’n vooruitgang opdimensie nie, maar in sy eie reg ’n sterk en waardige toevoeging tot die hedendaagse Afrikaanse poësie.”

Cecile Cilliers (Die Burger, 23 April 2007) noem haar ’n sprankelende stem. “Soos die historiese roset, vra die bundel stiplees om die volle woordwaarde daarvan te ontdek. Barkhuizen le Roux is lief vir die ongewone woord. [...] Sy skrik nie om woorde op eiesinnige en eiesoortige wyse in te span nie. Dit gee aan haar poësie ’n uitsonderlike varsheid en sjarme, mits sy daarteen waak om té vergesog, té esoteries te word, en sodoende haar lesers vervreem. Poësie is metafoor en begrip, maar poësie is ook  begrip. Die Phaistos-steen is aanloklik in sy geheimsinnigheid, maar uiteindelik verloor selfs die verbete navorser belangstelling ... Geboorte, groei, dood en herrysenis is van die temas wat in roset aan die bod kom, en elkeen van die onderwerpe toon Barkhuizen le Roux se enigmatiese, soms kriptiese aanslag. Dat sy haar aan haikoes waag (’n digvorm wat nie altyd met sukses in Afrikaans aangepak word nie), toon haar voorliefde vir die digte vers, en sy het wel sukses daarmee. [...] roset met sy wye verwysingsraamwerk (die bundel is van ’n register voorsien om sommige simbole en beelde te verklaar) is vanweë die ontginning van die Afrikaanse taal, maar ook ter wille van die liriese gehalte en die onverwagte metafore, ’n stuk digtersvreugde. Die naam Christine Barkhuizen le Roux is een om dop te hou.”

Ampie Coetzee (Rapport, 5 November 2006) begin sy resensie só: “Daar is gedigte waarin dít wat gesê word, analiseerbaar is van inhoud, onderwerp en tema; én dan die poëtiese. Maar dan is daar ook gedigte waar die gedig op sigself beteken, en dan nie eintlik saamgevat kan word nie. Só is die meeste gedigte van Christine Barkhuizen le Roux in hierdie nuwe bundel, roset. [...] Daar is by die digter ’n intense ervaring, visueel, van die natuur, waar waarneming en beskrywing ook ellipties werk. [...] Die assosiatiewe, die skeppende metafoor, wending, en veral die selfreflekterende vers bewys die poëtiese vaardigheid van Christine Barkhuizen le Roux.”

Volgens Bernard Odendaal (Volksblad, 30 Oktober 2006) verteenwoordig roset aan die een kant ’n bepaalde groei in Christine se digterskap, maar aan die ander kant tog ook nie. “Daar is ’n opvallende klank- en beeldgevoeligheid, wat tesame met die romantiese getinte kyk op sake dikwels tot mooi liriese uitinge aanleiding gee. Veral die natuurverse in afdeling drie van die bundel, en die gedigte oor die skugtere herontdekking van die erotiese liefde in afdeling 4, is sprekend hiervan. Die digter is haar klaarblyklik bewus van die gevare van ekstatiese liriese belydenisse, sodat sy ’n aantal strategieë aanwend om vormlike en stilistiese beheersdheid en objektivering in die hand te werk. [...] Barkhuizen le Roux is ook ’n skilder, en in sommige gedigte word natuur- en toneelsienings treffend tot woordgestalte geformeer, wat in die haikoes en ’n gedig soos skemerkombuis byvoorbeeld stillewe-agtig aandoen. Alles werk egter nie so goed uit nie. ’n Paar keer vind ’n mens dat ’n stuk beelding wat belofteryk gekonsipieer is, ontspoor as gevolg van ’n troebelheid of ’n ongeldigheid op reële vlak. [...] Daar is egter ’n klompie gedigte in roset wat enige individuele vers uit die debuut oortref.”

In 2010 is die Nederlandse vertaling van roset tydens die Boekebeurs in Antwerpen in België bekendgestel. Die vertaler was Joost van Hulle. Vir Christine was dit ’n wonderlike gebeurtenis, vertel sy aan Willem de Vries (Volksblad, 20 Julie 2010).

Christine se eerste bundel kortverhale, Waar koek en wyn ontbreek, word ook in 2006 deur LAPA gepubliseer. Die bundel was op die kortlys vir die M-Net/Jan Rabie-prys saam met Dana Snyman en Johan Engelbrecht wat gewen het met Kaffertjie.

Sy vertel aan Willemien Marais (Volksblad): "Ek skryf my verhale vir gewone mense; meestal vroue, maar nie doelbewus nie. Ek probeer egter ook om elke verhaal op verskillende vlakke te skryf sodat skryf ’n mens dit as ’n blote storie kan lees, of as iets diepers. Ek skryf nie vir akademiese lesers nie, ek wil hê my verhale moet toeganklik wees.”

Christine huiwer nie om kwessies aan te pak nie. Iets wat haar baie na aan die hart lê, is die netelige kwessie van “subtiele onderdrukking”. Dít is daardie onderdrukking van vrouens deur hulle mans wat nie as “mishandeling” beskou kan word nie. “’n Mens hoor dikwels hoe ’n man in ’n geselskap opmerk dat hy sy vrou ‘toelaat’ om dit of dat te doen. Toelaat!" Sommige lesers en kritici het al haar bundel as negatief teenoor mans beskou, maar sy reken dat dit beslis nie so is nie. “Ek glo wel dat daar sekere sake is wat eenvoudig aangespreek moet word.”

Wium van Zyl moes by die lees van hierdie verhale gereeld dink aan die verskriklike oomblikke wanneer die lont sy lading bereik. “Die leser word gekonfronteer met die klein tragedies wat dikwels nie die koerant of statistieke haal nie. Juis daardeur word deernis gewek vir die eg-menslike.”

Hans Ester van Nederland (Zuid-Afrika, Oktober 2006) beskou dit as “een mooie bundel” wat hopelik deur ander gevolg sal word. “De enige valkuil door Christine Barkhuizen le Roux ligt in de afsluitende regels van veel van de hier verzamelde verhalen. De schrijfster neemt de lezer hier en daar te veel bij de hand uit angst dat het toch misgaat met het begrijpen. Ze kan dat begrijpen gerust aan haar lezers overlaten.”

Vir Belia van der Merwe (Literator, Augistus 2006) staan "afskeid, verlies en vervreemding voorop in hierdie aangrypende en goedgestruktureerde verhale waarin die leser volkome kan identifiseer met die uiteenlopende en eg-menslike situasies waarbinne die karakters geplaas word. [...] Die ruimte waarbinne ’n groot aantal verhale in Waar koek en wyn ontbreek afspeel, is die plaas. In ’n paar verhale val die klem veral op die afsondering en isolasie wat die karakters binne hierdie ruimte ervaar en hoe dit die tema van verlies en vervreemding ondersteun. As teenpool vir die plaas of platteland as verhaalruimte is daar twee verhale wat binne die stadsmilieu geplaas is. [...] Hierdie is werklik, soos op die agterblad gestel word, ’n bundel soos ’n ‘geknoopte mat met ineenvloeiende aardsgekleurde drade’ en lesers kan met verwagting uitsien na nog verhale uit die pen van Christine Barkhuizen le Roux.” Carolyn Meads meen dat Barkhuizen le Roux se bundel vir ’n besonderse leeservaring sorg en sy stel voor dat lesers al hul sintuie en verbeelding inspan en hulle in haar stories inleef. “Laat woorde beelde word waar koek en wyn ontbreek.”

Hierdie verhale laat Lisa van Aswegen (Rapport, 28 Mei 2006) dink aan  gevoelens van medelye en menslikheid vir jou medemens en vir haar is dit een van die redes hoekom sy hierdie redelike beskeie bundel sal onthou.

In 2007 het Christine ’n biografie van die Nederlandse skrywer Simon Carmiggelt gelees. “Hierin figureer die groot skrywersfiguur Heijermans, want ‘hij (had) geen deel aan de nieuwsgaring (nuussoekery). Hij legde alleen vast hoe grote nieuws de kleine mense beroerde’. Hiermee vereenselwig ek my ook – om dít neer te skryf wat die mens ten diepste raak. Iets van ‘where do you go to ... when you’re alone in your bed’.” (Rapport, 6 Mei 2007)

Die Versindaba van 2009 se oorkoepelende tema was die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Om dit toe te lig is ’n kunsuitstalling in die Oude Libertas Ouditorium gehou van digters wat ook skilder, en van Christine se skilderye is ook daar uitgestal.

Padmaker, Christine se roman wat in 2010 verskyn het, word beskryf as ’n deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind wat een geslag op ’n volgende laat.

Christine vertel aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot (10 Junie 2010) meer oor Padmaker. "Dit is die storie van Katrien wat voor ’n kruispad in haar lewe staan. Haar verhouding met haar man stuur op ’n mislukking af en boonop verdwyn haar bejaarde ma, met wie sy van kindertyd af ’n troebel geskiedenis deel. Daar is vir haar net een uitweg: Sy moet haar ma gaan soek. Toe sy haar motor se neus draai in die rigting van die padkampe waar sy grootgeword het, is dit haar pa se wyse woorde wat haar lei: om te weet waarheen jy op pad is, moet ’n mens onthou waar jy vandaan kom."

Christine het baie lesse by Etienne van Heerden geleer terwyl sy gewerk het aan haar meestersgraad, maar die moeilikste een was om te besef dat ’n mens se lewensverhaal nie altyd geskik is vir ’n storie nie: "jy moet nog fiksie daarvan maak".

Die verlede in Padmaker is dus Christine se verlede, maar die intrige is fiksie. "Etienne se rol was om sulke chevron-borde, daardie geel-en-swart waarskuwingsborde wat ’n mens langs die pad sien, op te hou, wat sê: Pasop! Dan het ek geweet hier is ’n beskrywing of karakter wat nie werk nie."

Katrien se ma se siekte word nooit in Padmaker by die naam genoem nie, maar daar is tog rigtingwysers in die boek wat daarop wys dat dit Münchhausen se sindroom is. Christine het aan die idee vir die roman gekom deur ’n vriendin se ma wat aan hierdie vreemde siekte gely het. Die invloed wat so-iets op ’n hele familie kan hê, het ’n groot indruk op Christine gemaak, vertel sy aan Kirby van der Merwe in Beeld (17 April 2010). "Ek wou ook nog altyd iets oor die padmakerslewe skryf en hierdie twee heeltemal verskillende dinge het ’n eiesoortige dinamika verkry wat die storie gedryf het."

Stephanie Nieuwoudt skryf in Rapport (11 April 2010) dat Christine met Padmaker ’n "stuk ervaring oopgeskryf het wat nog nie voorheen so grondig in die Afrikaanse letterkunde aangepak is nie. Hierin kry ’n mens te doen met die geskakeerdheid van menswees in die padkampe: die drinkers en die skellers teenoor die verfynde vroue en mans wat hule kinders lei om opgevoede volwassenes te word.  (...)

"Dis byna onmoontlik om ’n boek oor ’n emosionele reis te skryf sonder om die een of ander grootse naam in die sielkunde by te sleep. En ja, Jung se spore lê duidelik in onder meer die drome en in Ma Kinnie se bykans obsessiewe betrokkenheid by haar breiwerk.

"Maar Padmaker raak nie verstrik in allerlei intertekstuele verwysings wat die leser vervreem nie. Dis ’n boek wat op verskillende vlakke gelees kan word weens sy geskakeerde verwysings.

"Die leser wat net agter ’n lekker storie aan lees, het nie kennis van die sielkunde of letterkunde nodig om die boek te kan verstaan of, belangriker nog, te kan geniet nie."

Ook Adéle Dempers (Volksblad, 12 April 2010) was positief oor Padmaker: "Padmaker is ’n weldeurdagte, sensitiewe roman wat netjies geskaaf is. Dit sou kon deurgaan as deel van die molesteringsgenre en as sulks is dit effe neerdrukkend en wroegend. Tog het dit ’n interessante invalshoek met sy gelyklopende innerlike en uiterlike reistema. Die hoopvolle einde, die berusting en heling wat Katrien vind, maak die roman ligter. Barkhuizen le Roux kan ’n storie vertel, ons sien uit na meer."

En vir Jeanette Ferreira is Padmaker ’n "knap en genoeglike, selfs ontroerende, leeservaring". (Beeld, 12 April 2010)

Christine se volgende bundel kortverhale, Wat die oog gesien het, word in 2011 deur Human & Rousseau uitgegee. In Die Burger (21 Maart 2011) sit Joan Hambidge die inhoud van die bundel as volg uiteen: "dit bevat anekdotes, herinneringe, reisverhale, ’n raamvertelling ('Verby') waarin die verteller se ervarings in jukstaposisie geplaas word met ’n vroulike werker se lot op die plaas en hoe vroue binne verskillende klasstrukture op die noodlot reageer.

"Hierdie verhale lewer implisiete kommentaar op vrouwees. Dikwels word in verhale, tersluiks, verwys na ’n beperkte begroting en ’n vrou wat van die man se begroting afhanklik is. Tog is daar reise buite die patriargie en sensitiewe waarnemings in ’n vreemde landskap (soos Turkye) waar verskillende gebruike en gelowe verhaal word."

Vir Hambidge is die gehalte van die verhale nie almal dieselfde nie. Daar is ’n klompie verhale wat baie knap is, maar dan is daar etlikes wat vasgevang is in die "anekdotiese of die momentopname".

Vir Riette Rust (Rapport, 1 Mei 2011) is Wat die oog gesien het ’n bundel wat geskryf is vir die leser en nie vir die resensent nie. Die verhale is toeganklik en die slotte van die meeste verhale het ’n impak. Die stories lees lekker, maar het ook diepte.

Hoewel die bundel kon gebaat het by besnoeiing van die aantal verhale en konsolidasie van sommige van die verhale, aldus Cilliers van den Berg, maar die bundel is nie sonder wins nie. Die verhale is toeganklik en baie lesers sal kan identifiseer met die temas. (Volksblad, 12 Maart 2011)

Christine het in Oktober 2009 Vlaandere besoek, waar sy saam met Jooris van Hulle (die vertaler van haar gedigte) en Ingrid vander Veken, wie se boek sy vertaal het, opgetree het in die boekwinkel De Groene Waterman in Antwerpen; in November 2009 het sy saam met Laurinda Hofmeyr in die Arenbergskouburg en in die Cultuurfabriek Sijsele opgetree.

Sy begin in 2009 met ’n vertaling van Ingrid vander Veken se boek Papavers – ’n ontroerende verhaal van die lewe saam met ’n skisofreniese seun. Die vertaling, Papawers, word in Mei 2010 deur LAPA uitgegee. Tans werk sy aan nog ’n vertaling, De kinderspelen deur Marc Pairon, en nog ’n bundel nuwe kortverhale vir Human & Rousseau. Christine weet nie of De kinderspelen ooit gepubliseer is nie.

Christine se volgende roman is in 2013 onder die titel Getuie gepubliseer. Hierin pak sy ’n redelike omstrede onderwerp aan, naamlik die Jehova se Getuies. Sy vertel aan die Landbouweekblad (25 Januarie 2013) dat sy ongeveer in 2007 ’n oproep van ’n skoolmaat van haar gehad het. Hulle twee het ontmoet en die vriendin het aan Christine vertel dat sy grootgeword het in ’n gesin van Jehova se Getuies en dat dit haar lewe verwoes het. Sy kon nie na skool verder studeer nie en het ook emosionele probleme gehad.

Christine het dadelik geweet dat sy, wat op daardie stadium nog besig was met Padmaker, een of ander tyd ’n roman wou skryf wat die lewe van só ’n mens uitbeeld. "Ek wou aan mense wys hoe ’n individu in omstandighede vasgevang kan word en wat die verloop daarvan kan wees. In Getuie het ek die karakters se lewensloop bepaal op grond van dit wat werklik soms met lede van die Jehova se Getuies gebeur. Ek wou wys dat dié mense slagoffers is van hul leierskorps, en dat hulle, wanneer hulle daarin slaag om 'uit te gaan', bitter alleen in die wêreld is.

"Die titel Getuie slaan enersyds op die 'Jehova se Getuies', maar ook op die feit dat Maggie ’n getuie word van wat met Mignon gebeur, en van Bea, die vrou in die tronk, ’n niggie van Mignon. Eindelik word die leser ook getuie van wat in dié vroue se lewens afspeel."

Vir Christine was die grootste uitdaging met die skryf van Getuie om ’n ewewigtige verhaal van die Getuies te vertel - nie net die leiers wat die lede uitbuit nie, maar ook dié verhaal van die gewone mense en die mense wat die Getuies verlaat het. Sy was ook lugtig dat dit nie moet lyk na ’n aanval op die Getuies nie, maar om te wys hoe gevaarlik dit kan wees om in so ’n fundamentele groep jou man te kan staan en die gevolge daarvan. "Die uitgangspunt van my skryfwerk is altyd om vir die leser iets te probeer oopmaak waarvan hy tevore nie eintlik geweet het nie."

Christine het baie deeglike navorsing gedoen voordat Getuie geskryf is. Hierdie navorsing maak egter nie inbreuk op die vloei van die verhaal nie. Dit help om die lesers bekend te stel aan die wêreld van die Jehova se Getuies en hulle meer breedvoerig in te lig oor die praktyke en geskiedenis rondom hierdie godsdiensrigting.

Oor hierdie navorsing vertel Christine aan Phyllis Green (Sarie, 3 Januarie 2013) dat dit as ondersteuning tot haar verhaal moes dien. Sy kon egter nie al die navorsing in die skryf van die boek gebruik nie, want sy wou nie ’n storie vol feite aan die leser opdien nie, maar die leser moet meer vertel word oor die Getuies. "Dis eintlik ’n godsdiens met twee verskillende bene. Die een is die leiers bo wat hulle volgelinge breinspoel en misbruik. Dis ’n geldmaak-organisasie. Daar is miljoene der miljoene dollars op die spel. Die mense wat in die veld werk, wat die publikasies verkoop en versprei, besef nie dis ’n geldmaakstorie. Ek wou die leiers blootstel en ek wou wys dat die Jehova se Getuies eintlik die prooi van ander mense is."

In Vrouekeur (22 Februarie 2013) skryf Willie Burger: "In Getuie word gekyk na iemand uit ’n klein subkultuur waarteen die groter gemeenskap vyandiggesind is. Die hoofkarakter, Maggie, ontmoet ná jare weer ’n skoolvriendin, Mignon. Op laerskool was hulle vir ’n klein rukkie boesemvriendinne, maar hul vriendskap het skipbreuk gely omdat Maggie se pa, maar ook die hele gemeenskap, dit vir Mignon onhoudbaar gemaak het omdat sy ’n Jehovasgetuie was. Die roman ondersoek die invloed van ’n gemeenskap se norme en die manier waarop sekere mense in- en uitgesluit word. Dit is egter ook ’n ondersoek van die vernietigende houvas wat ’n godsdiensgroep op individue kan hê. Dit is gewigtige temas en Barkhuizen le Roux lei die leser om met veel begrip en deernis na groepe en die invloed daarvan op mense te kyk. Die roman behels egter meer. Maggie ontmoet vir Mignon weer ná baie jare – as haar man al dood is en kort voor haar kleinkind in Frankryk gebore word. Wanneer Mignon selfmoord pleeg, raak Maggie ook by ’n ander Jehovasgetuie betrokke, wat tronkstraf vir moord uitdien, en sodoende leer sy geleidelik nog meer oor die effek van dié geloof op mense. In die proses ontmoet sy ook ’n ander skoolvriend – wat ’n hoë pos in die gevangenisdiens bekom het. Die verhaal gaan dus nie net oor die problematiek van ’n geslote groep se invloed op individue nie, maar dit word ook die verhaal van hul ontluikende liefde – terwyl sy dit geleidelik regkry om emosioneel van haar oorlede man los te kom."
Op LitNet skryf Dineke Volschenk dat die lees van Getuie vir haar baie bevredigend was. Een van die rigtingwysers in die roman is dat dit dui op die gevare van godsdiens, asook op die vernietigende invloed wat ouers op hulle kinders kan hê.

In Volksblad (19 Januarie 2013) skryf Riaan Grobler dat Christine ’n "knap skrywer is wat die destruktiewe natuur van fundamentalisme subtiel aanbied. Getuie is die soort boek wat die leser laat besin oor die donker kant van die godsdiens en die vernietigende invloed wat dit op mense se lewe kan hê."

In 2015 verskyn Christine se volgende bundel gedigte by Naledi onder die titel skynskadu. Dit is uitgegee met ’n CD waarop sy haar gedigte voorlees en waarop sangers ook van haar gedigte sing.

Op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge dat "herinnering en haar skynmaat, nostalgie, belangrike dimensies in hierdie bundel is." Op die agterflap van die bundel beskryf Fanie Olivier die bundel as ’n "herroeping van talle verledes".

Die digter keer in hierdie bundel terug na die jeug, skryf Hambidge; "vandaar die verse oor ouers en oumas en oupas en die bestaan op die plaas. Behalwe hierdie verse is daar ook lykdigte oor ander digters, soos Lucas Malan, Chris Lombard en George Weideman. In die laaste afdeling van die bundel vind die leser reisgedigte oor stede wat die digter besoek het en, skryf Hambidge, besinnings oor ’n stad, ’n besoek aan ’n museum of katedraal aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen land van herkoms en land van besoek".

Christine het aan René Bohnen op Versindaba uitgebrei oor die reisgedigte: "Kyk, ek bly mos op ’n plaas, nie ’n landgoed nie, ’n regte egte boereplaas. Hier by ons is dit meesal droog; jy kyk die reën uit die wolke uit, en dan kom daar net ’n buurmansreën. Maar dis in die spanning tussen hierdie lap grond en die groter wêreld wat die skryfwerk gebeur.  Dis om dit wat jy weet van jou eie wêreld te amalgameer met ’n nuwe omgewing. Om te beleef: hoe anders is ons – en hoe dieselfde is ons nie! En dan sien jy jou eie plek, dorp, plaas, met nuwe oë – kry jy nuwe beelde om die ou vertroude dinge mee te beskryf. Dan sien jy die man buite die Primada-katedraal in Toledo as iemand anders as die bedelaar voor die OK in jou eie dorp."

Vir Hambidge is Christine se herinnerings- en nostalgie-verse die skerpste, terwyl sy die reisgedigte as "minder gefokus" vind. Maar dit is ’n bundel vir diegene wat "hou van afgewerkte, dog toeganklike gedigte. Gedigte hoef nie vol intertekste en swaar verwysings te sit om te werk nie. Daar is ’n plek vir al die verskillende style in die huis van onse digkuns."

In ’n onderhoud met René Bohnen op Versindaba oor skynskadu verduidelik Christine aan Bohnen dat dit nie haar bedoeling was dat die gedigte in die bundel oor ’n spesifieke tema gaan nie, aangesien sy nie so skryf nie: "Söteman praat van 'impure en pure dichters'. Laasgenoemde skryf uit die hart, uit die taal, nie uit die aktuele gebeurtenisse van die dag nie. Ek dink dat my gedigte deur die jare heen ’n sekere strekking het, maar dit sien ek eers wanneer ek na ’n lang tyd die skryfsels langs mekaar sit. Dus daar is nie vooraf ’n 'program' nie – eerder die resultaat van ’n stuk lewe wat geleef is, en waaroor daar agterna besin is."

Op Versindaba resenseer Marlies Taljard skynskadu en som sy die bundel as volg op: "En dit bring my by die totale aanbod van die bundel. Soos dit so dikwels met onlangse (en minder onlangse) digbundels gesteld is, is ook hierdie bundel te lywig. Dit behoort uit my bespreking in die eerste deel van die resensie duidelik te wees dat daar ’n aantal sterk gedigte in skynskadu is wat weldeurdag en deeglik afgewerk is. Barkhuizen le Roux kan wel dig, maar sy het nie die ondersteuning van ’n streng teksredakteur gehad wat, in haar eie belang, vir haar gesê het: 'Kill your darlings!' nie. Veral die laaste afdeling, wat 18 gedigte oor die reiservaring bevat, is heeltemal te lomp. Die meeste van dié gedigte kon myns insiens weggelaat gewees het ten einde ’n meer gebalanseerde digbundel te produseer. Minder gedigte beteken dikwels ook ’n waardevolle seleksie van goed afgeronde gedigte met groter diepgang. Ook die gebrek aan die metaforiese 'goue draad' wat die bundel tot ’n geheel sou kon saambind, ontbreek tot ’n groot mate deurdat te veel gedigte willekeurig opgeneem is en die klem waarskynlik geval het op 'wat kom in?', in plaas van op 'wat moet uit?'"

In 2015 publiseer Naledi Diane Broeckhoven se Die buitekant van Meneer Jules wat deur Christine vertaal is. Op Netwerk24 skryf Danie Botha (13 Julie 2015) dat binne 60 bladsye leer die leser vir Alice en haar gevoelens ná haar man se dood van naderby ken. Een wintersoggend vind sy vir Jules wat doodstil op die bank sit en nie sy koffie drink nie. Dan ontdek sy dat hy dood is.

"Hier aan die begin bespreek sy lank hoe hulle twee nog altyd verskil het oor hoe hul wil sterwe. Daar is aanvanklik nie skok nie. Ontsteltenis en gemengde gevoelens volg eers ’n bietjie later. Sy besluit: niemand moet weet hy's dood nie – 'Hy is nie dood solank as wat sy dit nog nie vir iemand gesê het nie.’"

Danie Botha skryf verder: " Haar gedagtes is insiggewend en geloofwaardig, maar neig dit nie na skrywersmanipulasies om dit tog net in die teks te kry nie? (...)

"Iets wat nog baie sterker bydra tot geloofwaardigheid is die tonele met Dawid. Wanneer sy nog wik en weeg hoe om Jules te versorg, besef sy skielik dat Dawid stiptelik om tienuur sal opdaag om skaak te speel saam met Jules. Dawid is ’n outis en veilig binne roetine, herhaling en orde. Sy buitengewone invloed op Alice verskerp die intrige, sy nugter uitsprake en optrede skep klimakstonele.

"Broechhoven het reeds heelwat jeugboeke en prosa vir volwassenes in die Lae Lande gepubliseer. Danksy Barkhuizen le Roux se woordkeuses en sinsbou gaan die Nederlands vlot oor in 2015-Afrikaans. Maar ... die leestekens en hoofletters het nie genoeg aandag gekry nie."

Christine se nuutste roman is Drieklawerblaar wat in Augustus 2016 gepubliseer is. Oor die ontstaan van die roman en die impetus wat haar dit laat skryf het, vertel Christine aan Elmari Rautenbach (Netwerk24, 20 September 2016) dat die agtergrond ’n ware verhaal is: "Abré Marais van die Paarl het een middag, aangedaan, vir my die verhaal van sy familie se verlies vertel – hoe sy oupa Abraham Bier die familieplaas verloor het nadat hy vir ’n buurman borg gestaan het. Maar die wiel het gedraai, het die oupa gesê – oor hóé, wou hy egter nooit uitwei nie. Die antwoord het Abré eers later as ’n amper middeljarige man by een van die oudste inwoners van Barrydale gehoor. Die res van die gemeenskap het óf nie geweet nie, óf dit doodgeswyg. Die verlies wat die familie ervaar het, was die vonk om die roman te skryf, maar ook die tragiese geheim wat Abré laat in sy lewe eers ontdek het – daardie 'wiel wat gedraai het'."

Die roman speel in die hede in die Klein Karoo, waar Christine bly, af. "Drieklawerblaar verweef die verhale van drie karakters: Kate, ’n afgetrede verpleegster, Tinneke, gastehuiseienaar en weduwee, en haar hardkoppige buurman, Abel, ’n wildboer. Op die plaas Doringboomlaagte soek Kate na antwoorde: hoe het haar Ierse oumagrootjie hier, in Afrika, beland? Terselfdertyd is Abel gemoeid met sy familiegeskiedenis: watter houvas het die grond waarop Doringboomlaagte nou is op sy voorsate gehad? ’n Roman oor herkoms en grond, en hoe om vrede te maak met die verlede." (uitgewers se inligtingstuk)

Op LitNet skryf Juliana Coetzer die resensie oor Drieklawerblaar. "Hoe is dit moontlik om enigsins kritiek te lewer op ’n storie waarin soveel belê en soveel diepte bereik is, dink ek telkemale terwyl ek die boek lees. Ek kan nie anders as om te dink die skrywer het moeite vir haar lesers gedoen nie. Dit is asof ’n mens dit aanvoel; die storie kom van ’n goeie mens en dit gaan oor goeie mense.

"Drieklawerblaar beskryf die lewens van die drie hoofkarakters, Kate, Tinneke en Abel. Elkeen dra swaar aan sy eie storie, 'die gisterdae wat soos die agterpant van ’n trui is', soos Kate dit noem. Hulle paaie loop onafhanklik van mekaar, maar die behoefte om die verlede agter te laat, om ’n skoon toekoms tegemoet te gaan, bring die drie uiteindelik bymekaar uit en hulle lewens word in mekaar verweef.

"Die storie word tydsaam vertel, met baie detail. Alhoewel die drie karakters die buitelyne vorm, amper soos ses arms wat inmekaar gevleg is, gebeur daar ook baie aan die binnekant. Elkeen se lewe word totaal oopgeskryf en jy leer hulle intiem ken. Die skrywer neem jou op ’n reis binne elkeen se realiteit terwyl die raaisels en geheime in die agtergrond teenwoordig is en die gewete van die storie uitbeitel. Jy leer ken hulle vriende en kinders en die alledaagse bedrywighede waarmee hulle hul besig hou. Jy lees van ’n proteaboerdery waarin ’n karakter haar honger na ’n konneksie uitleef en van die skaam protea wat hoog in die berge groei, die Trots van Franschhoek. En van iemand wat sy herkoms in Frankryk soek en die effek van ’n impulsiewe daad in Egipte. (...)

"Die skrywer maak ruim van godsdienstige simboliek gebruik, soos ’n kruis, heiliges en gebede om die storie ’n dieper betekenis te gee. En dan is daar die onverklaarbare wond aan die arm, dalk as stigmata bedoel.

"Vir my het die storie gelees soos ’n spanningsverhaal. Ek het letterlik my asem opgehou tot by die laaste hoofstuk. Wat kan dan so erg wees dat iemand so swaar onder die gewig van die verlede loop? En dan die skok, die ongeloof en skielik het alles wat ek in die vorige hoofstukke gelees het en nie kon verstaan nie, sin gemaak. Dit is wat die skrywer regkry; sy hou die leser aan die wonder, asof ’n mens met ’n frons lees, die hele tyd.

"Lesers wat van intriges hou, sal die boek geniet. Die storie is aangrypend en raaiselagtig. Boonop is dit menslik met deernis geskryf sodat ’n mens nie anders kan as om selfs onvergeeflike dade te verskoon nie. Alhoewel die storie boeiend is, is dit die skrywer se vermoë om taal in te span om ’n beeld te skep sodat jy dit op jou tong proe en haar gebruik van beskrywende woorde, soos medemens wat 'ewemens' word, wat die boek ’n besondere sjarme gee.

"Die boek eindig met die woorde van Iyanla Vanzant: 'Forgiveness is giving up the hope that the past could be any different.' Ja, die geheime, ja, die raaisels, ja, die onreg, maar dan kom die verstaan en die vergifnis, opstaan, aangaan en nuut lewe. Vir my was dit die boodskap, vir elkeen sal dit iets anders wees. Jy sal nie met leë hande wegstap nie."

Marida Fitzpatrick was op Media24 (4 Oktober 2016) net so positief oor Drieklawerblaar. Sy beskryf Christine as ’n "vaardige storieverteller wat weet hoe om volronde, komplekse karakters te weef. Dit is ook Drieklawerblaar se sterk punt: Die karakters is volrond en lewensgetrou. Al drie is ouer mense wat deurleefd en geskakeerd is.

"Die skrywer kry dit ook  baie goed reg om ’n sterk kontras te skets tussen die eenvoudige, rustige buitelewe op die plaas en die verstrengelde, stormagtige binnelewens van die karakters. Dit sorg vir lekker afwisseling in toonaard.

"Plek-plek trap sy in die slaggat om haar karakters oor te verduidelik. (...) Die dialoog tussen die karakters wil ook nie altyd vlot nie. (...) Maar behalwe vir dié paar dinge wat pla, is Drieklawerblaar ’n sterk roman met stories, karakters en temas wat oortuig."

Oor die wisseling tussen genres het Christine aan Phyllis Green in Sarie verduidelik: "’n Roman is vir my soos ’n kasteel met baie vertrekke, sale en kamers en op ’n manier moet jy alles met mekaar verbind. ’n Kortverhaal is vir my soos een vertrek waarbinne alles binne ’n beperkte tyd afspeel. ’n Gedig is die plantjie wat buite in die skaduwee groei, wat baie min mense raaksien. Dis soos ’n verwisseling van ratte en in elke rat doen jy iets anders. Elke genre het sy eie dissipline en dan moet jy oorskakel na daai dissipline toe."

Publikasies:

Publikasie

dimensie

Publikasiedatum

2000

ISBN

0620263369 (sb)

Uitgewer

Stellenbosch: Suider Kollege Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar koek en wyn ontbreek: kortverhale

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336297 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

roset

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336939 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

In België 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Padmaker

Publikasiedatum

2010

ISBN

97807981 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat die oog gesien het: kortverhale

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152563 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Getuie

Publikasiedatum

2013

ISBN

9778079815707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

skynskadu

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780928316117 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drieklawerblaar

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174039

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Vertalings deur Christine Barkhuizen le Roux

Artikels oor Christine Barkhuizen le Roux beskikbaar op die internet

 
Artikels deur Christine Barkhuizen le Roux beskikbaar op die internet

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Christine Barkhuizen le Roux (1959–) appeared first on LitNet.

Dolf van Niekerk (1929– )

$
0
0

Bron: https://lowvelder.co.za/396319/woorde-innituin/


Gebore en getoë

Rudolf Johannes van Niekerk is op 22 Februarie 1929 op Edenburg in die Vrystaat gebore. Dolf was kwalik ’n maand oud toe sy ma, Bettie, oorlede is. Sy pa, ook Rudolf Johannes, wat ’n kleremaker was, is later weer getroud. Uit hier die huwelik is Dolf se halfsuster Maria gebore, maar sy is oorlede toe sy twee jaar oud was. Sy pa was 47 toe hy aan emfiseem oorlede is. Hy het nooit gerook nie, maar die kryt wat hy gebruik het in sy beroep, het in sy longe gaan sit.

Dolf vertel aan Elise Tempelhoff in Beeld (20 Februarie 2009) dat hy en sy pa se verhouding "besonder liefdevol" was. "My pa het ons nét toegelaat om nuus te luister omdat die radio se batterye maklik pap geraak het. Een aand terwyl ek besig was om vir my matriekeksamen te studeer, het my pa in die kamer ingekom en vir my gesê: 'Ouboet, jy kan vanaand ’n  bietjie radio luister'.

"Hy het die radio aangeskakel. Ek het ’n wonderwerk beleef: Oor die radio was ’n regstreekse uitsending van die Chileense simfonie-orkes wat Beethoven se vierde klavierkonsert uitgevoer het. Daardie aand het my honger en dors vir musiek begin."

Hy matrikuleer in 1946 aan die Hoërskool Edenburg. Ná twee vorige huwelike is Dolf in 1967 met Susan getroud en uit sy eerste twee huwelike is vyf kinders gebore en hy het sewe kleinkinders. Hy woon in Murrayfield in Pretoria.

Dolf van Niekerk vertel aan Elise Tempelhoff (Beeld, 20 Februarie 2009) toe hy as kind sy verstand gekry het, "het ek bewus geword van die eenheid van die gees en die omgewing – die natuur – waarbinne die gees ervaar, groei of onrustig raak; waarbinne die mens kan breek, kan heel, maar waartoe hy niks kan voeg nie."

Verdere studies en werk

In 1949 behaal Van Niekerk sy BA-graad cum laude aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 1950 sluit hy hom aan by die SAUK as omroeper/regisseur. Drie jaar later debuteer hy in die letterkundige tydskrif Standpunte. In 1954 behaal hy sy Hons BA-graad in Wysbegeerte, weer eens cum laude, aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy begin ook in alle erns prosa skryf, benewens radiowerke wat hoorspele, hoorbeelde en vervolgverhale insluit.

Met die daarstelling van die Departement van Landbou se radiodiens Landbouradio in 1957 word hy aangestel as radiobeampte en later hoof van hierdie diens. Intussen begin hy weer studeer en in 1967 behaal hy sy MA in Wysbegeerte cum laude aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling getitel Vryheid as fundamentaal-eksistensiële prinsipe in "Aantekeningen uit het ondergrondse" van FM Dostojewski. Hy voltooi sy studies in 1982 met die verwerwing van sy doktorsgraad aan die Universteit van Pretoria met die tesis Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse bodembenuttingsituasie: ’n kultuur-filosofiese studie.

In 1969 word Dolf bevorder tot assistentdirekteur in die afdeling Landbou-Inligting van die Departement van Landbou, en in 1972 tot adjunkdirekteur. In 1978 word hy direkteur van die Direktoraat Landbou-Inligting – ’n pos wat hy beklee tot sy aftrede in 1994. Sy departement stuur hom by drie geleenthede oorsee om ’n studie te maak van kommunikasiedienste binne landbouverband.
Dolf vertel self dat daar oomblikke in ’n mens se lewe kom waarvan die invloed op ’n mens se lewe eers later blyk. In sy matriekjaar hoor hy vir die eerste maal ’n klavierkonsert, spesifiek Beethoven se vierde. In dieselfde jaar bring sy neef, John van der Berg, die uitsaaier en skrywer, vir Dolf se pa ’n kopie van NP van Wyk Louw se Lojale verset. Dolf is universiteit toe “met ’n dors na musiek, ’n liefde vir die geskrewe woord, en ’n honger na die wysbegeerte”.

In ’n onderhoud met AJ Opperman met sy 90ste verjaardag (Die Burger, 22 Februarie 2019) vertel Dolf van Niekerk dat dit eintlik by die SAUK was waar sy skryfloopbaan begin het. "Ek en Pieter de Bruyn, radioman en akteur, sou by die SAUK saam sit en planne beraam. Dan sê ons vir onsself: Kyk, ons moet die radio wen vir Afrikaans. Ons gaan Afrikaans skryf en die radio gaan Afrikaans praat."

Op daardie stadium het Dolf nog glad nie sy hand aan prosa gewaag nie. Hy het net gedigte geskryf. En toe ontmoet hy vir Audrey Blignault, vertel hy aan Opperman. "Sy was redakteur van ’n tydskrif, Die Huisvrou. Toe vra Audrey op ’n dag vir my: 'Dolf (ek was vroeg in my 20's, wat weet ek nog van skryf?), wil jy nie vir my ’n kortverhaal vir die tydskrif skryf nie?' Ek sê maar hoe nou? Sy sê probeer, hoekom nie? En daar skryf die astrante mannetjie ’n verhaal vir Die Huisvrou. Onder ’n skuilnaam. Dit was die eerste prosa, kan ek maar sê, wat die ou man gepleeg het."

Tydens sy jare as omroeper begin hy vir die radio skryf en hoor hy musiek. Sy radioskrywery loop uit op die skryf van gedigte en prosa, en die letterkunde en wysbegeerte raak onlosmaaklik verstrengel “in die vergestalting van gedagtes en idees”. Daar is redelik lang tussenposes tussen sy verdere studies in die wysbegeerte, en volgens Dolf is dit ook maar goed so, “gemeet aan die vreugde wat ek uit die verhandeling en proefskrif geput het”.

Dolf se liefde vir die land as Godgegewe bron van lewe vir mens en dier kom weer tot uiting in sy verbintenis met die Departement van Landbou.

In 1965 ontvang Van Niekerk die SAUK-prys vir hoorspele vir sy reeks hoorbeelde Land van ons vaders. Regter JF Marais sê in sy huldigingswoord die “aanbeveling berus in die eerste plaas op Dolf van Niekerk se onberispelike vertolking van ’n opregte, gesonde vaderlandsliefde … Hy het met ’n fyn sin vir die gepastheid van elke détail van elke onderdeel van sy onderwerp, en die draagkrag daarvan, telkens ’n afgeronde beeld gegee van een of ander noemenswaardigheid in ons geboorteland – uit die geskiedenis of die aktuele hede … Hy het as’t ware die land self laat praat, die hele land van ons vaders … Ek kan nie nalaat om van Dolf van Niekerk se voortreflike styl en woordgebruik melding te maak nie … Dit is die bevredigende harmonie tussen die vindingryke siening van sy gegewens, sy keuse van toon en kleur en die subtiele roersele van ’n sterk vaderlandsliefde wat die komitee tot hierdie werk van Dolf van Niekerk as pryswaardig laat besluit het.”

In 1958 word Dolf se eerste boek, Gannavlei, gepubliseer, maar voor dit, vertel hy aan Riaan Cruywagen op kykNET dat hy vroeg in 1953 drie gedigte geskryf het wat deur DJ Opperman gekeur is om in Standpunte te verskyn. Gannavlei is op sy radiovervolgverhale Die rebelle van Gannavlei en Die eerste burger van Gannavlei gebaseer en handel oor die lief en leed van eenvoudige mense op ’n klein plattelandse dorpie. Die kwessie van buitestaanderskap wat ’n kenmerk in baie van Van Niekerk se boeke is, is al te bespeur in Gannavlei waar die twee hoofkarakters (Dawid en Duif) deur hulle asosiale gedrag buitestaanders is, "al val hierdie roman nog met sy romantiese toonaard, kleindorpse milieu en oordrewe beeldgebruik binne die kader van die ouer prosa. Die uitbeelding van die buitestaanders bring egter ’n mate van vernuwing in die tradisie van die kleindorpse vertelling. Die gelyktydige ontwikkeling van verskeie uiteenlopende motiewe gee ’n episodiese bou aan die roman, terwyl die verwisseling van die verteller vanaf die ongekwalifiseerde 'ons', later een van die dorpsgenote en nog later ’n aktiewe karakter nie strook met die regstreekse aanbieding van Dawid en Duif se binnegedagtes nie. (Rob Antonissen: Kern en tooi. Nasou, 1963)

Met die verskyning van die roman Die son struikel in 1960 voeg Dolf hom by die groep skrywers wat as die Sestigers bekend sou staan. Hy sê dat hy Die son struikel in ’n oomblik van “waansin” geskryf het. Vir Dolf is Sestig se prosa en poësie die uitvloeisel van ’n beweging en individue se poging om spontaan uiting te gee aan elkeen se manier om na die realiteite van hulle tyd te kyk en daaroor te skryf. In Die son struikel is die tema van outsider-skap wat ’n eienskap van daardie jare was, baie sterk op die voorgrond. Vir Elize Botha het selfs die buiteblad en die voorkoms van die boek in die teken van Sestig gestaan. Anna Vorster was verantwoordelik vir die buiteblad  en Afrikaanse Persboekhandel met Bartho Smit aan die stuur het dit gepubliseer.

Hierdie novelle behandel die trauma van oorlog (die Rebellie van 1914 tot met die geweld tydens die Randse mynwerkerstaking van 1922) op ’n buitestaander-figuur. "Die styl van die roman is in kort, staccato-agtige sinne wat in die bewussynstroomtegniek die gevoelens en innerlike lewe van die hoofkarakter, Diederik Versveld, weerspieël. Hy is ’n volslae outsider wat geen plek het op aarde nie en sy lewe in angs en eensaamheid deurbring. As baie jong seun is sy ouers in die Anglo-Boereoorlog dood en hy word in afsondering deur sy ouer broer groot gemaak, maar met sy broer se dood word hy alleen die wêreld ingestoot, op soek na ’n eie identiteit en ’n plek om te behoort. Hy worstel dan in sy onvolwassenheid en eensaamheid met die kernvrae van die lewe, soos wie God is en wat die sin van die lewe is. So word hy ’n simbool van die groter onafgerondheid en onvolwassenheid van die mensdom en verkry sy worsteling universele betekenis as uitbeelding van die enkeling se stryd teen kragte en situasies wat hy nie verstaan nie en wat sterker as hy is.  

"Die omringende karakters is verteenwoordigend van die magte van die kerk, staat en volk, wat as die bedreigende 'hulle' deurentyd op die periferie aanwesig is. Die 'hulle' propageer rebellie en staking en gee op hierdie wyse die historiese werklikheid aan die novelle, terwyl Diederik in sy volkome afwysing van hierdie magte en onttrekking in homself die sin van die geskiedenis ontken, opnuut gebore wil word en in die dood raad met God wil hou. Daarom dat hy vir die omringende karakters kan sê dat hy nie een van hulle is nie en terwyl hy staak, hy nie saam met hulle staak nie. Deur sy volstrekte weiering om mee te doen aan enige aksie is Diederik Versveld die mees konsekwente outsider-figuur in die Afrikaanse letterkunde. Met hierdie roman lewer Van Niekerk ’n wesenlike bydrae tot die vernuwing wat Sestig in ons prosakuns gebring het," skryf LS Venter in Beeld van 5 Maart 2001.

Met Die son struikel fokus Dolf van Niekerk weer eens op “die buitestaander/outcast”. "Die buitestaander se groot verlange is om nie ’n buitestaander te wees nie, maar deur omstandighede is hy gewerp in ’n situasie van eensaamheid waaruit hy nie kan ontsnap nie. Die grootste behoefte van die buitestaander/uithuisige figuur is om 'tuis' te kom. Die jong rebel, Diederik Versveld, is ’n buitestaander – alleenmens, enkeling, vreemdeling op aarde. Hy is op soek na lig – hoop, uitkoms, rede. Ná sy broer se wrede dood gedurende die 1914-rebellie, begin hy by die goudmyne werk waar hy onwillig betrek word by die mynstakings. Hy word willoos deur die onstuimigheid van sy tyd rondgeslinger, maar vir hom is daar niks wat ’n standpunt werd is nie – hy is niemand, niks, nêrens." (http://protea.bookslive.co.za/blog)

In Die moeder (1965) word vertel van ’n groepie oorlewendes wat na ’n kernontploffing saam in ’n toegesluite kompartement is. "Die tyd is iewers in die toekoms, in die laaste fase van die groot botsing tussen Oos en Wes om Afrika. Die ek-verteller neem bestek op van sy lewe in ’n relaas van gebeure wat deurmekaar die verlede en hede belig en sodoende langsaam die hele prentjie skets. Suiderkruis kan gesien word as die volmaakte kernbom-installasie, ’n soort tweede Ark. Die hoofkarakter was as spioen betrokke in ’n aanval op die leier van die Suiderkruis-organisasie en word daarna deur ’n jong vrou van die teenspioenasie, Maria, in beskerming geneem. By haar verwek hy ’n kind. Sy gaan front toe en hy word as klerk gebruik by Suiderkruis, waarna die kernbom ontplof. Aan die einde sien hy vir Maria op ’n televisieskerm, die vrou by wie hy ’n kind verwek het, met die duidelike simboliek van ’n nuwe Christus wat as verlosser vir die oorgeblewenes gebore gaan word en só hoop bied aan die vervalle mens wat gans verlore blyk te wees." (Rob Antonissen: Spitsberaad. Nasou, 1966)

Amper 30 jaar verloop voordat daar weer ’n roman uit Dolf van Niekerk se pen verskyn het. Koms van die hyreën wat in 1994 gepubliseer is, is ’n novelle waarin veral die probleem van grondbesit aangespreek word, met die boer, die staat en die oorspronklike Sanbewoners, die Kousops van die Twagroep, wat almal daarop aanspraak maak. 

"Johannes du Plessis kyk magteloos toe hoe sy erfplaas deur die genadelose droogte afgetakel word en dan lê landboubeamptes nog ’n klag teen hom weens oorbeweiding. Hy is noodlottig gebonde aan hierdie stuk grond wat nie meer in sy lewensbehoeftes kan voorsien nie. Dis in hierdie omstandighede wat Kousop sy grond kom opeis, wat sy voorgeslagte na bewering deur onwettige verkwanseling verloor het. Kousop word gearresteer na ’n reeks veediefstalle en Johannes word by sy aankoms by die tronk herinner aan die wandade van sommige Afrikaners tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die droogte word ’n metafoor vir die sondeval, met grond en reën as genadegawes. Wanneer Kousop se moeder sterf, laat Johannes hom toe om die lang nagwaak by die lyk op sy plaas te hou. Op hierdie nag, wat versoening en insig tussen die partye kon bring, kom egter die verwoestende hyreën. Die skrikwekkende donder, blitse en hael bring egter nie verlossing nie, maar is geweld van ’n ander aard, wat ’n gesprek tussen die Afrikaner en die San verydel. Eindelik word die natuur ’n mede-karakter in hierdie boek, waarin daar geen klinkklare antwoorde is nie, maar baie om oor na te dink." (George Weideman, Insig, Desember 1994/Januarie 1995)

In 1968 word Dolf se eerste jeugverhaal, Skrik kom huis toe, gepubliseer, wat JC Kannemeyer as “een van die allerbeste jeugverhale in Afrikaans” beskryf. Dolf slaag daarin om met sy verhale vir die jeug die grense van hierdie genre te skuif deurdat die verhale wat hy skryf, nie die jong leser onderskat nie. Skrik kom huis toe vertel die verhaal van Albert Muller wie se pa weer getroud is. Hy en sy stiefma kom nie baie goed oor die weg nie. Sy kan nie kinders van haar eie hê nie en haal haar verbittering op Albert uit. Ook kry hy geen ondersteuning van sy pa nie.

Daar is egter twee dinge in die lewe wat vir Albert van betekenis is: Ma-Bet op die dorp wat vir hom soos ’n tweede ma is en hom verstaan en sy duiwe. Sy gunstelingduif se naam is Skrik omdat sy stiefma altyd sy duiwe laat skrik het. Soos die verhaal ontwikkel, ontwikkel die duiwe tot simbole. Wanneer Skrik dus huis toe kom, dui dit op versoening tussen Albert en sy stiefma. Deurdat Skrik die jong mens se gevoelslewe en emosies met groter insig en op ’n dieper noot verken as wat tot op daardie stadium in Afrikaans gebeur het, kan dit as ’n baanbrekerswerk beskou word. (Wikipedia)

In 1985 word Skrik opgevolg met Karel Kousop en Die haasvanger. Vir laasgenoemde ontvang hy die MER-prys, asook die Scheepersprys vir Jeuglektuur. Veral die MER-prys lê hom na aan die hart, want sy ontmoeting met MER toe hy ’n jong man van 23 was, het tot ’n vriendskap van amper 30 jaar gelei.

In Die haasvanger plaas die skrywer weer eens ’n gesin en die emosionele probleme binne die gesinsopset (met ’n ma en ’n pa wat uitmekaar is) voorop. Lourens, die seun, se bynaam, Kiewiet, sinspeel op sy verbondenheid aan die natuur. Weer eens fokus Van Niekerk op die buitestaanderskap deur dat Kiewiet ’n alleenloper is wat na die natuur vlug om weg te kom van die ongelukkige huislike toestande.

Kiewiet begin deelneem aan atletiek en deur die gedeelde belangstelling ontmoet hy vir Janet met wie hy ’n tentatiewe verhouding begin. Sy pa is ook in ’n nuwe verhouding en daar is vooruitsigte van die koesterende sekuriteit waarna Kiewiet smag. Ook begin hy sy ma se optrede beter verstaan wat daarop dui dat hy ook besig is om te groei. "Veral opvallend is hoe knap die innerlike lewe en gedagtes van die seun weergegee word, en daarmee saam die groei op pad na volwassenheid." (Elsabe Steenberg, Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1986)  

Saam met Nic van Rensburg verwerk Dolf van Niekerk hierdie werk vir die verhoog en is dit onder andere in die destydse Nico Malan-teater in Kaapstad opgevoer. Hulle het gebruik gemaak van rolprentinsetsels om tonele soos op die atletiekbaan uit te beeld, waar dit moeilik of onmoontlik sou wees om dit op die verhoog te doen.

Die Tweede Wêreldoorlog en die emosies van andersdenkendes in Suid-Afrika van daardie tyd vorm die agtergrond van Dolf van Niekerk se volgende jeugverhaal Karel Kousop. Die storie word in die eerstepersoon vertel deur Gerrit, ’n jong seun, maar die eintlike hoofkarakter is Karel Kousop, ’n San-seun wat grootword as deel van ’n blanke gesin. Al het Karel se eie pa uit die leër gedros en word gesoek vir moord, bly hy nog steeds gebonde aan sy agtergrond. Hy is ook nooit regtig gemaklik by die wit gesin nie, al aanvaar hulle hom ten volle.  

"Hy handhaaf sy eiewaarde lewe as unieke mens en word nie aan die nuwe omgewing gelyk gemaak nie," skryf Elsabe Steenberg in Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1986. Die boek was in 1986 op die kortlys vir die Rapportprys.

Dolf van Niekerk se veelsydigheid as skrywer het al geblyk toe van sy kortprosa in tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer is.  In 1963 word  sy eerste bundel kortprosa onder die titel Skepsels gepubliseer en in 1965 is dit met die Eugène Marais-prys bekroon.

TT Cloete het in Oktober 1963 se Standpunte oor Skepsels geskryf: "Die drie verhale (kort novelles) in Skepsels is die titelverhaal, 'Bitterbos' en 'Jan Fiskaal'. Hierin word karakters beskryf wat as gevolg van mislukking of verlies van een of ander aard ’n onbevredigde lewe lei. Telkens het hulle eie geskiedenis ook ’n bepalende invloed op huidige gebeure."

Ander kortverhaalbundels van Dolf van Niekerk is Kort lewe van ’n reisiger (1979) wat vyf kortverhale bevat wat die buitestaander se sielkundige sorge uitlig, Koors (1997) wat twaalf verhale oor die liefde bevat, maar wat veral fokus op die opbreek van verhoudings en die probleem wat persone met werklike kommunikasie ervaar.

In 1998 (met ’n herdruk in 1999) verskyn Dolf van Niekerk se bundel kortverhale oor die Anglo-Boereoorlog onder die titel Brandoffer. Vir hierdie bundel het Van Niekerk sy inspirasie gevind by navorsing wat hy by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein gedoen het en in stories wat persoonlik aan hom vertel is. Die bundel bevat vier verhale en 36 kort tekste wat bestaan uit aangehaalde briewe en ander dokumente en verwerkings in verhaalvorm van vertellings, dagboekinskrywings en bestaande literatuur. President Steyn se brief  in antwoord op lord Kitchener se bewerings dat die Boere die skuld van die oorlog moet dra, vorm die proloog tot die bundel. Die titel van die bundel is ’n verwysing na die brande wat die plase en huise verwoes het, asook ’n verwysing na die offer wat aan die Here gebring moet word.

In Brandoffer kom Van Niekerk se liefde vir die geskiedenis tot uiting. Hy het as kind sy eerste indrukke van die oorlog by sy ouma gekry, en met al die vertellings het hierdie oorlog vir hom al werkliker geword. Elke verhaal in die bundel is op die waarheid gegrond en dit is dalk wat die bundel so treffend eerlik maak.

Gretel Wybenga skryf: "Dit is veral die offer wat die vroue en kinders betaal het wat in die verhale weerklank vind en meeste verhale word uit die oogpunt van die vrou aangebied. In onopgesmukte en ontroerende wyse word hier vertel van die verskriklike smart wat die oorlog meebring en die oorwinnende aanvaarding van die offer wat gebring is." (Rapport, 31 Januarie 1999)

Die bundel Drielaag is ’n versamelbundel van kortverhale van hom, Mikro en HS van Blerk. Van sy kortverhale word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Die terugkeer van ’n soldaat in Windroos en Kortverhale vir verkenning. Ander versamelbundels waarin sy kortverhale opgeneem word, sluit in Drif onder redaksie van Lindeque de Beer, Dekade: Resente Afrikaanse kortverhale van FV Lategan, Vertellers van Merwe Scholtz, Mooiloop van Gerrit Rautenbach, Kortgolf van Tom Gouws en PH Roodt en Steekbaard en Uit die kontreie vandaan, beide van Abraham H de Vries. Sy skets oor "Paul Kruger se laaste hoofstad" word deur Chris Barnard opgeneem in Die Transvaalse Laeveld. "Die anatomie van ’n eerste dood" is jeugherinnerings oor die dood van sy halfsuster, wat hy spesiaal skryf vir opname in Herinnering se wei, ’n stuk wat later ook in Vuurslag opgeneem word. Hy lewer ook ’n bydrae tot die versamelbundel Amfiteater, waarin werk van oudstudente van die Universiteit van Pretoria opgeneem word.

Land van ons vaders bevat van sy eie en ander medewerkers (insluitende Abraham H de Vries, AAJ van Niekerk en HS van Blerk) se radiopraatjies oor die geskiedenis en natuur van Suid-Afrika. Woord in die môre bevat uitgesoekte essays wat in die radioreeks Uit my peuselboek uitgesaai is, en sluit 'Oujaar 1977' in waarmee hy ’n Artes-toekenning as beste radioteks verower het. Die bundel word in twee afdelings verdeel, naamlik 'Gister' en Van nou'. Diverse sketse, wat voorheen oor die Afrikaanse Diens van die SAUK uitgesaai is, word saamgebundel in ’n Bietjie Luisterkuier

Die aarde waarop ek loop bevat biografiese sketse, waarin hy skryf oor mense wat sy lewe verryk het soos Mikro, John en Willem van der Berg, MER, DJ Opperman en ander. LS Venter (Beeld, 8 Maart 2004) skryf: "Dieverhale het ’n fyn verbloemde chronologiese gang, vanaf die 'oom'-verhale van kleintyd, verhale uit sy skool- en studentejare en later die ontmoetings tydens sy uitsaaidae. Hierdie chronologiese gang en die beskrywing van die impak van die ontmoeting op hom veroorsaak dat die verhale ook besondere betekenis het as outobiografiese sketse."

Met sy poësie lewer Dolf van Niekerk ’n groot bydrae tot die Afrikaanse poësieskat. Ná sy vroeë debuut in letterkundige tydskrifte publiseer hy eers in 1975 sy eerste bundel gedigte getiteld Karoosange.

Vir André P Brink (Rapport, 6 Julie 1975) is daar in Van Niekerk se gedigte ’n fyn waarneming en suggestie te bespeur en word dit in ’n "gestroopte styl" weergegee. Vir Rika Cilliers (Beeld, 18 Augustus 1975) is Karoosange "liries van aard en bestaan hoofsaaklik uit kort verse", terwyl Johann Johl (Standpunte, Oktober 1976) meen dat dit "sober filosofie of die natuur aan die bod bring".

Die titel illustreer vir TT Cloete (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1976) reeds die "eenvoudige landelikheid en pretensieloosheid van hierdie verse".

Dubbelster verskyn meer as 20 jaar later (in 1996) en van die gedigte van sy eerste bundel verskyn weer hier saam met 40 nuwe verse.

In Rapport van 18 Augustus 1996 skryf George Weideman as volg oor Dubbelster: "Die sentrale tema van die dubbelster simboliseer die keersye van lewe en dood, wat veral in die aarde en die natuur weerspieël word. In eenvoudige maar treffende verse dig hy dan ook hoofsaaklik oor die natuur, met voëls, skoenlappers en selfs brommers, skape en ander diere as onderwerpe saam met die wind, wolke, reën, blomme en stilte en afsondering. Hierdie temas ontlok dan ook verskeie godsdienstige gedigte. Hy begin die bundel met familieportrette oor ’n ouma, ma en pa, waarmee hy dan die mens en sy plek in die natuur vestig. Die aangrypende sonnetreeks van nege gedigte, 'Elegie vir verlore aarde', behandel ’n greep uit die geskiedenis van die oorspronklike Noord-Amerikaners."

Tien jaar verloop voordat Dolf van Niekerk se derde digbundel in 2006 die lig sien onder die titel Nag op ’n kaal plein. Hierdie bundel is ’n digterlike verwerking van die skrywer se jeugjare op Edenburg in die Vrystaat en het ontstaan toe die skrywer na baie jare weer sy tuisdorp besoek het. Oor sy inspirasie vir die bundel sê Van Niekerk self: “[D]aardie nag toe ek op die kaal plein onder die maan staan, begin dit rondom my lewe, is dit asof almal wat lankal dood en weg is, na my toe terugkom”.

Hy vertel ook aan AJ Opperman (Die Burger, 22 Februarie 2019): "My ouers is daar in die begraafplaas begrawe. En daardie aand ná ete gaan stap ek waar ek as kind op die plein gestap het. En glo jy nou vir my: Ek staan daar en ek kyk om my ... en dis asof al die mense wat ek geken het uit hul huise kom. Ook dié wat gesterf het. Die kinders wat ek geken het. En daar is almal om my."

Thys Human (Tydskrif vir Letterkunde, 2009) beskryf Nag op ’n kaal plein as ’n "woordgalery van gestorwenes én sterwendes: bekommerde boere, bedroefde geliefdes; ’n kleremaker, winkelier, skoolmeester, orrelis, kunstenaar, predikant en skrywer. Anders as die outobiografiese vertellings in Die aarde waarop ek loop (2003), het die meeste van dié 'portrette' hulle egter in digvorm aan Van Niekerk opgedwing. Nag op ’n kaal plein bestaan uit 26 genommerde verse wat tot só ’n mate tematies by mekaar aansluit en met mekaar oorvleuel, dat hulle ook aaneenlopend gelees kan word as ’n enkele gedig met 26 ongeveer ewe lang afdelings."

Human sluit sy bespreking af: "Die bekoring van Nag op ’n kaal plein is veral geleë in die bedrieglike eenvoud van die taal en beelding in dié kort bundel. As aangrypende besinning oor 'die misterie van die lewe/en die wonder van die dood', verteenwoordig dit ’n hoogtepunt in Van Niekerk se oeuvre."

Vier van Dolf van Niekerk se vyf kinders was in November 2017 betrokke by ’n produksie getiteld Nag op ’n kaal plein waar sy poësie aangebied word met musiek en toneelspel. Die regisseur van die stuk was sy oudste kind, Stephanie, wat hierdie produksie reeds 10 jaar tevore in haar geestesoog gesien het toe sy hierdie bundel van haar pa gelees het.

"My pa was in sy 70's toe hy sy tuisdorp, Edenburg, weer besoek het en in die nag op die dorpsplein gaan staan het. Dit was die oorsprong van die bundel wat TT Cloete beskryf het as ’n 'Afrikaanse poëtiese pronkstuk en juweel'," vertel Stephanie aan AJ Opperman (Beeld, 10 November 2017).

"Die bundel het met tye ’n baie hartverskeurende gevoel. My pa het nie maklik grootgeword nie. Sy ma is kort ná sy geboorte dood en dis ’n deurlopende tema in sy werk. Nag op ’n kaal plein bevat 26 gedigte, maar dit vang die atmosfeer van daardie wêreld en tyd goed vas. Al die inhoud van die bundel is in die verhoogproduksie."

Sy moes vooraf aan haar pa verduidelik hóé sy te werk sou gaan om die bundel op die verhoog gestalte te gee. Waar die bundel dit toelaat, het sy klein toneeltjies ingesluit. Sy wou van die begin af gehad dat van die akteurs in die lug moes hang aangesien daar gepraat word van "mense wat nie meer hier is nie". Agterop die skerm was daar ’n projeksie waarop Dolf te sien is.

Stephanie het voortgegaan aan Opperman: "Vier van my voormalige studente en sewe van my huidige studente tree hierin op. My seun, die violis Evert van Niekerk, tree ook op. My suster Betsie Schaap speel klavier terwyl my broer, Rudolf, gedigte getoonset het en dit op die kitaar vertolk. Karlien, ons ander suster sing ook en dis net die jongste Marguerite wat nie deel is van die produksie nie.

"My pa het sagkens probeer uitvind hoe die produksie daar gaan uitsien. Hier en daar het ek iets verklap, maar die res hou ek vir hom as ’n verrassing, wat hy hopelik ’n lekker verrassing sal vind."

In 2009, die jaar toe Dolf van Niekerk 80 geword het, verskyn Lang reis na Ithaka, sy vierde bundel. Die titel sinspeel op die lang reis wat Odysseus moes aanpak na die Trojaanse oorlog voordat hy weer by die huis aangekom het. Op hierdie reis het hy so baie terugslae beleef dat dit gevoel het asof hy nooit sy bestemming sou bereik nie, skryf Lucas Malan in Rapport van 24 Mei 2009. Die digter verwoord in hierdie bundel sy belewenisse en sy verlange na veraf bestemmings, asook die soektog na ’n geliefde en sielsmaat – iets wat hy nooit gedurende sy reis op aarde gekry het nie. Die eerste afdeling, “Pellafolio”, doen verslag oor ’n reis in die verlede in die barre en droë streke van Namakwaland saam met die geliefde. In hierdie verse word die natuur heel dikwels verwoord as nie net ’n simpatieke element nie, maar ook ’n afwysende een wat die oorsaak is dat die spreker se verlange na ’n geliefde nie tot vervulling kom nie. Die tweede afdeling heet 'Historia', waarin die digter teruggaan na die treurverse, asook herinneringsverse van sy vorige bundel. Die bundel word afgesluit met “Lang reis na Ithaka”. In hierdie laaste afdeling bied die digter geen bron aan vir sy gedig nie, en, skryf Malan, "hoewel hy 'n 'ek'-spreker met die gebruik van leestekens aanhaal, kom dié reisverslag kennelik uit die mond van ’n belese, denkende subjek wat veel ervaar het en sy lewe nie as ’n ligsinnige ervaring beskou nie."

Hoewel Daniel Hugo in sy resensie op LitNet Lang reis na Ithaka beskryf as ’n bundel waar die "vaalheid", ten spyte van die kleurvolle omslag, oorheers, sonder hy tog die volgende gedig in Ithaka uit as een wat goed vergelyk met die bestes in Karoosange. Vir Hugo is dit "gestroopte suiwerheid en die volgehoue metafoor van die kokerboom" wat waardering by hom uitlok:

Ek stroop die lae
van sy stam, die
hartpatrone op sy bas;
blaai dit tot ’n ope boek
van al die woorde
wat ek vir jou soek.
Maar ek blaai my vas
in vesels van die tyd –
die twyfel
of jy in hierdie dorre land
’n koker vir
my hart sal bly.

Met die verskyning van sy vyfde digbundel, Bleek planeet, in 2013 keer Dolf van Niekerk terug na die natuur en sy kommer oor wat aan die gebeur is met die skepping.

"Die mooi omslag gee dadelik ’n sleutel tot hierdie keurige bundel verse van Dolf van Niekerk. En soos die flapteks bevestig: 'Hy verwoord hierin sy verwondering oor die ontstaan van die aarde, sy liefde vir die kwesbare droë dele van ons land, veral die Karoo, en ’n diep kommer oor die kragte wat die fyn balans van die natuur kan versteur,'" skryf Henning Snyman op LitNet. 

"Hier is geen geheimenis vir die leser om tematiese motiewe, ook leitmotiewe, te probeer naspeur nie. Net soos die brose planeet waaroor hierdie verse wonder, net so broos is hierdie verse in hulle blootstelling.

Soos die lesers van Van Niekerk se werk teen hierdie tyd weet, is sy Afrikaans ragfyn in woord en beeld. Alhoewel hierdie gedigte ook sterk reageer op die elemente van aardverwoesting, en die brutale kragte wat dit loslaat, bly die teks self vry van taalwoede en heftige emosie. Heerlik om ’n bundel te lees van ’n digter wat sterk emosie oordra sonder om te soek na die etiket van "die woedende digter". Van Niekerk is ’n volwasse digter met ’n beleënheid in sy digkuns en sy hantering van die woord wat geen foefies nodig het nie.

"Die tema is uiters relevant, en as sodanig kan hierdie rustige protes ook gelees word as ’n dokument met ’n manifes. Die brose aarde/planeet wat deur geel en groen gaan, is nou reeds bleek. Die kleur van skoonheid word, soos die bundel vorder, geleidelik vervang met die bleekheid van ’n diep besorgdheid, weemoed en selfs wanhoop oor die stand van die skepping. (...)

"Die bundel neem die leser deur die wonder van die skepping wat in onverbiddelike samehang met die verwonding van die skepping resoneer. Die ontstellende konfrontasies word verwoord in beskaafde dog kragtige Afrikaans. Ook Afrikaans so aards dat dit die leser na Boerneef laat verlang.

"Die bundel het egter veel meer as die planeet in sy visie. Die natuur en die wonder én verskrikking daarvan word telkens in verhouding gebring met die gang van die menslike psige. Trouens, die planeet word ’n spieëlbeeld van die mens in sy worsteling, sy ongeërgdheid, sy eie verval en sy verwagting. Ook verbaas dit nie dat twee van die laaste verse godsdienstige liturgieë betrek nie: “Missa Solemnis” (50), waar al die stasies vanaf die kyrie tot die agnus dei die leser lei na die bewussyn van God; en 'Requiem' (60):       

sluit my oë
en agter ’n geel membraan
’n skepping met wesens
in ’n kom sonder uitgang.

"Bleek planeet is ’n ryk leeservaring wat nie alleen suiwer literêre bevrediging bied nie, maar ook tot nadenke stem. Die fyn en innige hantering van die woord en die skerp fokus op die deurlopende tema maak dit ’n eerstehandse poëtiese belewenis. Dit is ’n bundel vir rustig en besinnend lees, sonder dat dit ’n literêre kragtoer van die leser vereis. En ai, die soepele, beleë en mistieke Afrikaans ...

"Uit 'Ballade van die hande' (43):

Vier hande rem aan wysters om tyd aan bande te lê
dat geen minuut of uur
aan die verloop van jou eensaamheid
vorm kan gee, maar tyd en vryheid
laat om in die spanning tussen nou en ewigheid
tot vergelyk te kom."

Dolf was met Bleek planeet nog nie klaar gedig nie en in 2015, op die ouderdom van 86, verskyn Portrette in my gang met ’n foto van sy moeder, aan wie die bundel opgedra is, op die buiteblad.

"Daardie portrette van die swygende voorouers wat in die gang van ’n ou huis hang en ’n verlede opvang langs die Breede en Smalle Weg, word hiermee geaktiveer," skryf Joan Hambidge in Die Burger (16 Januarie 2016). "Die portretvers is ’n gedig wat aansluit by die tradisie van die beelddig, ’n vers wat oor ’n beroemde of bekende persoon handel. In hierdie bundel word die portret gekoppel aan sowel die intiem-persoonlike, te wete die moederfiguur, as aan beroemdes soos filosowe, skrywers, musici en kunstenaars."

Vir Hambidge maak dit nie saak of Dolf van Niekerk oor die panta rei of die Karoo poësie skryf nie en of hy peins oor sy herkoms nie, Portrette is en bly ’n "beleë en waardige" deel van sy oeuvre en van die Afrikaanse poësie. "Daar is ’n misterie en soeke na die 'God wat is' en ’n wete dat die lewe (soos die dood) ’n sirkelgang is."

Van die verse gryp die leser aan die hart – verse waarin kruie, die wolvag van ’n skaap en die reuk van sy geliefde Karoo raak beskryf word. "Hierdie uitstekende bundel illustreer ’n fyn balans tussen konkrete beeld en filosofiese idee wat nooit onder blote abstraksie swig nie. Telkens keer ’n mens terug na ’n vers wat met onderstelling werk," sluit Hambidge haar bespreking af.

Ook Nini Bennett is op LitNet beïndruk met Van Niekerk se sesde bundel Portrette in my gang: "Portrette in my gang is ’n welkome toevoeging tot die oeuvre en laatwerk van die veelbekroonde skrywer, digter en dramaturg Dolf van Niekerk. Dit is sy sesde digbundel. Die afwesigheid van ’n bundelverdeling suggereer iets van die leesaksie: die leser beweeg deur die bundel soos deur ’n galery en vertoef by die verse, waar ’n bestekopname van beeldgedigte die verwerking van verskillende persoonlike en historiese gebeurtenisse vorm. (...)

"Eindelik word die digter ’n soort kurator, die skatmeester van ouds, en die bundel ’n opgaaf van kosbare memento’s en memoires. Die verse is meditasies wat die leser bybly en waarheen hy terugkeer om te vertoef en te besin oor die deurleefde narratiewe verweef in elke portret of beeldgedig."  

In Rapport van 13 Desember 2015 eindig Daniel Hugo sy resensie só: "In 'Burkea Africana' (wildesering) stel die dogter homself, ondanks sy gevoel van ontheemding in Afrika, voor as ’n inheemse boom wat vir oulaas opbloei:

Jou laaste asem
was jou laaste blom:
seisoen van ouderdom.

"Mag Van Niekerk se digterlike boom nog baie blomme dra."

Dolf van Niekerk is veral vir sy skryfwerk vir die radio herhaaldelik bekroon. Benewens die SAUK-prys vir Hoorbeelde in 1965 vir Land van ons vaders en in 1971 die SAUK-prys vir Hoorspele vir Kamer 99 ontvang hy ook in 1977 die Artes-prys vir die beste radioteks. Die Ruiterbeeld-toekenning van die Federasie van Rapportryerskorpse word in 1984 toegeken aan Niemand se dag nie en ander werke. Van sy bekendste radiovervolgverhale is Die man met ’n blaar in sy handVoëls op takkeCicero word getemDie rebelle van Gannavlei en Die eerste burger van Gannavlei.

Dolf se lewe en werk is in 1999 die onderwerp van AKPOL (Afrikaanse Kultuuvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisiediens) se jaarlikse skolevasvra-kompetisie, wat deur die Hoërskool Silverton gewen is. In 2001 ontvang Dolf die Laureaat-toekenning vir besondere prestasie van die Alumni-raad van die Universiteit van Pretoria. Gedigte uit sy bundel Karoosange is deur Niel van der Watt getoonset en deur die Tukkieskoor uitgevoer.

 Tydens 2017 se Innibos-Kunstefees is Dolf vereer vir sy lewensbydrae tot die letterkunde. Hy het hierdie toekenning baie waardeer, sê hy aan AJ Opperman. "Ek glo nie ek verdien iets nie. Nee, regtigwaar. Wat ek gedoen het, het ek as my werk beskou. Jy skryf omdat jy nie anders kan nie, jy dig omdat jy nie anders kan nie, maar uiteindelik is dit jou werk, jou verstand, jou bewussyn, jou gees." 

Een van Dolf se passies is wedvlugduiwe. Hy was so ongeveer twaalf jaar oud toe hy ’n wedvlugduif op die brug op die Rietrivier optel. Hy het die nommers op die duif se ring by die polisie gaan aanmeld en kort daarna ’n brief van die eienaar in Bloemfontein gekry waarin hy hom vra om die duif kos en water te gee en hom vry te laat wanneer hy sterker is. “Ek kry nou nog hoendervleis as ek dink aan hoe mooi die twee sirkeldraaie van die duif was voordat hy verdwyn het.” Die man bring vir Dolf ’n paar weke later drie wedvlugduiwe as geskenk, en net daar byt die gogga hom. Hierdie belangstelling vind ook neerslag in Skrik kom huis toe. Hy was ook verantwoordelik vir die Duiwerubriek wat in die sestigerjare oor die SAUK uitgesaai is.

Ook Dolf van Niekerk se prosapen is nog ver van uitgeskryf. In 2017 verskyn Kroniek van turf by Protea Boekhuis.

Dolf het al in 2009 aan Elise Tempelhoff (Beeld, 20 Februarie 2009) vertel dat hy werk aan ’n nuwe boek waarvan die tema "besit en "rentmeesterskap" is. Die werktitel was in daardie stadium Wie besit die grond? Hy het bespiegel dat dit dalk ’n roman kan word, maar dat daar nog op daardie stadium baie navorsing gedoen moes word.

Op LitNet som Jaco Barnard-Naudé die verhaal van Kroniek van turf as volg op: ”Kroniek van turf vertel die verhaal van ’n Afrikaanse familie en ’n Boesmanfamilie se verbintenis met dieselfde stuk grond. Hierdie grond is geleë in wat vandag die Vrystaat tussen die Riet- en die Modderrivier is. Die storie begin by Gerrit, ’n werknemer van die VOC wat in die 18de eeu begin boer op ’n leningsplaas in die Roggeland en later aan die Oosgrens sneuwel.

"Na Gerrit se dood verskuif die fokus na sy seun, Johannes, wat aanvanklik vooruitstrewend in die Renosterberg-omgewing boer. Nadat ’n sprinkaanplaag egter sy plaas kaal vreet en ’n daaropvolgende droogte dit onmoontlik maak om in die Renosterberg te bly boer, word Johannes gedwing om verder die binneland in na ’n nuwe staning te gaan soek. So kom hy dan by die stuk vrugbare grond tussen die twee riviere uit. Met sy aankoms ontmoet hy ’n groepie Boesmans, wie se leier se een oog effens skeel kyk.

"Johannes onderhandel met hierdie leier, na wie hy aanvanklik as 'Skeeloog' verwys. Hulle kom ooreen dat Johannes en sy familie teen betaling van beeste en skape die grond met Skeeloog en sy mense kan deel. Skeeloog kry later ’n naam: hy word Skeel Kobus toe Johannes uitvind dat hy 'stamvader en kaptein, draer van Gamoep se nalatenskap' is (53). Nog later kom dit aan die lig dat Skeel Kobus se ware naam Kousop is."

Barnard-Naudé gaan voort: "In Kroniek van turf is die tersaaklike begrip eienaarskap. Van Niekerk se uitbeelding van die twee groepe (of families) in die verhaal spreek van ’n omvattende begrip van die kolonialisme as ’n proses waarvolgens een groep mense grond toe-eien waarmee ’n ander groep mense reeds ’n bepaalde verbintenis het. Daardie verbintenis toon nie noodwendig die tekens van dit wat ons vandag as eiendomsreg beskryf nie, maar dit beteken nog nie dat die ander groep ’n swakker aanspraak op die grond het of dat hulle eksistensiële verbintenis met die grond minder intens is nie. (...)

"In sy kenmerkende gestroopte styl kry Dolf van Niekerk dit reg om veel meer as bloot die fiktiewe geskiedenis van twee Suid-Afrikaanse families en ’n plaas te vertel, want wat op ’n allegoriese vlak aan bod kom, is niks minder nie as die hele geskiedenis van die mens se konstitutiewe verbintenis met, afhanklikheid van en konflik oor grond. (...)

"In hierdie verband kom mens veral onder die indruk dat die skrywer nie net ’n hoogs deurdagte begrip van die kompleksiteit van die mens se geskiedenis met grond het nie, maar ook oor die vermoë beskik om die spesifieke geskiedkundige besonderhede van die verhouding met die grond in Suid-Afrika oordeelkundig met die fiksie te verweef. Tydens ’n onlangse gesprek by die Woordfees oor Karel Schoeman se Skepelinge het die historikus Dan Sleigh, wat ook as romansier bekend is, aangedring op die verskil tussen historiese fiksie en geskiedskrywing. Kroniek van turf beding hierdie verskil op vernuftige wyse deur subtiele verwysings in die teks te plaas wat die fiktiewe element benadruk. In hoofstuk 8 sê die ek-verteller byvoorbeeld dat die geskiedenis van sy eie mense '’n soort raaisel' (97) is.

"Die slot van Kroniek van turf sal nie die siniese leser geval nie. Dit is ’n idealistiese einde waarin die skrywer ’n konkrete skets bied van hoe grond gedeel kan word, hoe die grondkwessie in hierdie land aangespreek kan word sonder verdere gewelddadige toe-eiening en verbanning. In ’n tyd van soveel onsekerheid, angs en woede oor die grond, is Van Niekerk se kort maar kragtige novelle onontbeerlike leesstof vir almal wat die verhouding tussen grond, mens, geweld en vrede beter wil verstaan."

Riaan Grobler skryf in sy bespreking in Die Burger (2 Mei 2017) baie positief oor Kroniek van turf. Volgens hom slaag Van Niekerk daarin om binne 135 bladsye ’n groot hoeveelheid geskiedkundige gebeure te ontsluit. En dan slaag hy ook daarin om dit te vertel asof hy self by al die gebeure teenwoordig was.

Grobler sê verder: "Maar dit is die emotiewe grondkwessies wat die verhale van die verskillende geslagte en hul geliefdes aan mekaar verbind. Die kompleksiteit van eienaarskap van grond wat verkry is deur onteiening, oorlog of historiese predisposisie is die 'Catch22' wat nóg in die boek, nóg in die werklike lewe ’n ontknoping bied. Kroniek van turf is ’n verstommende eksistensiële werk deur ’n skrywer wat sy praatwerk tussen die lyne doen."

In haar resensie skryf Heilna du Plooy: "Kroniek van turf was soos ’n X-straal-foto van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dis ’n dun boekie, eintlik ’n eenvoudige, direkte verhaal. Dit gaan so deur die geslagte. Dis so ’n verhaal van uithou, weer begin, baie misverstande." (Die Burger, 22 Februarie 2019)

Ter viering van Dolf van Niekerk se negentigste verjaarsdag in 2019 verskyn ’n versameling filosofiese, bepeinsende en besinnende essays uit die pen van hierdie meesterskrywer in Afrikaans getiteld Legkaart van die lewe (Protea Boekhuis). Vanaf sy vroegste gewaarwordinge tot sy kennismaking met groot filosowe soos Nietzsche, Kant en Hegel op universiteit en in sy daaglikse handel en wandel daarna: altyd maar bly die bewustheid van ’n onsigbare 'iets' by hierdie aristokratiese gees – en ’n soeke na ’n beter verstaan van dít wat 'die sterretyd en die menstyd aan mekaar verbind'. (Uitgewersinligtingstuk)

Dolf van Niekerk se jongste digbundel is getiteld Berigte uit die skemerland wat beplan is om in 2019 te verskyn. Hy vertel vir AJ Opperman dat hy vandat hy ’n kind was ’n affiniteit met die skemer het. "Ek is nou in die skemerland. Nog nie nag nie. Die heel eerste in die bundel gaan oor die geboorte. Dan sluit dit af met verwondering."

Dolf van Niekerk en die skrywer Chris Barnard was goed bevriend en Dolf het hom in die hospitaal gaan besoek twee dae voor Chris se dood en vir Van Niekerk was dit baie aangrypend.

"Ons het gepraat oor letterkunde en filosofie. Die fisieke het nooit ter sprake gekom nie. Toe ek my kom kry, was ons al twee uur lank aan die praat. En weet jy, toe vra ek hier teen die einde: Wat is dit met ons? Daar kom ek en hy by die volgende uit: Ná alles waardeur ons is, bly verwondering oor. En ek en Chris is met daardie begrip uitmekaar. Oor die grootheid, oor die waarheid. Die verwondering. Die bron sal ons nooit ken nie. Dis die soort gesprekke wat ons gehad het."

Verjaardagwense aan Dolf van Niekerk:

  • Joan Hambidge: "Hy vermeng die filosofie en natuurwaarneming uniek. Soms stel hy groot filosowe aan die woord soos Nietzsche of word die massamens via Ortega y Gasset gekritiseer. Die digter is ’n opgeleide filosoof, maar dit oorwoeker nooit sy verse nie. Wanneer daar ongerymdhede in ons letterkunde plaasvind, is hy immers die stem van rede. Dramaturg, jeugverhaalskrywer, romanskrywer - maar veral digter. Ageluk aan hierdie ou juntelman!" (Die Burger, 22 Februarie 2019)
  • Heilna du Plooy: "Daar is sekere temas wat regdeur sy werk voorkom soos die afwesige moederfiguur. Prosa, poësie, kortverhale – ek dink die sterkste tema is dié van verlies ... ’n Groot sensitiwiteit Loop regdeur Van Niekerk se werk. Dit is teenoor die mense, teenoor sy karakters, maar dan ook in sy taalgebruik. Hy is ’n absolute esteet. Musiek en kuns speel alles ’n rol in sy werk." (Die Burger, 22 Februarie 2019)
  • Martjie Bosman: "Dolf van Niekerk is regtig een van die merkwaardigste mense wat ek ken – nie net oor sy skrywerskap nie, maar ook oor die wonderlike volronde, liefdevolle mens wat hy is. Hy is ’n veelsydige skrywer, maar hy is meer as dit. Het het ’n vermoë om met sy stem mense te raak. Hy is ’n denker, ’n filosoof wat groot vreugde put uit gewone goed soos sy tuin, lekker kos, mooi musiek. Hy is ’n mens wat die lewe in al sy volheid geniet en waardeer.

"Hy skryf ongelooflik vinnig. Daar gaan lang tye verby dat hy nie skryf nie, en dan trek hy los. Daar is dan iets wat in sy onderbewuste uitgebroei het. In sy werk is die onwesenlikheid en tydelikheid van die dinge ook dikwels aanwesig. ’n Mens kry die gevoel ’n filosoof is aan die woord. Hy is een van die heel eerste skrywers wat die tema van bewaring in Afrikaans aangeraak het; iemand wat nadink oor die mens se plek op die aarde." (Die Burger, 22 Februarie 2019)

  • Corina van der Spoel: "Die seuntjie wat uit die voorbladfoto van Dolf van Niekerk se outobiografiese boek kyk, is dieselfde Dolf, met dieselfde wit kuif, nou meer as 80 jaar later, wat steeds ondersoekend en vraend na die wêreld kyk. Vir my is die wonder van ’n lang en kosbare vriendskap met hom, dat hy steeds verwonderd bly oor die lewe." (Die Burger, 22 Februarie 2019)

Publikasies:

Publikasie

Gannavlei: novelle

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1961
  • 1964
  • 1978
  • 1979
  • 1980

ISBN

0628009461 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die son struikel

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1964
  • 1969
  • 1972
  • 1973
  • 1981
  • 1985
  • 1987
  • 1988
  • 2014

ISBN

  • 0628002831 (hb)
  • 0628026307 (sb)
  • 9781485302445 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel
  • Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel
  • Johannesburg: Perskor
  • Johannesburg: Content Solutions Online
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kwart voor dagbreek: ’n verhoogspel in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1963
  • 1979

ISBN

0628015194 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skepsels

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1971 

ISBN

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1964

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die moeder

Publikasiedatum

1965

ISBN

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die paddas: satiriese eenakter

Publikasiedatum

1968

ISBN

Uitgewer

Johannesburg: Dalro

Literêre vorm

Eenbedryf

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skrik kom huis toe

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1969
  • 1971
  • 1972
  • 1975
  • 1980
  • 1981
  • 1982
  • 1983
  • 1985
  • 1986
  • 1987
  • 1988

ISBN

  • 0624000648 (hb)
  • 062401195X (hb)
  • 0624020053 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamer 99

Publikasiedatum

1972

ISBN

0628003196 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

SAUK-Akademieprys 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karoosange

Publikasiedatum

1975

ISBN

0624006476 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die nagloper: twee tekste vir televisie

Publikasiedatum

1976

ISBN

0798107197 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Televisiedrama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woord in die môre

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628014171 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Radio-essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kort lewe van ’n reisiger

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624013286 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Niemand se dag nie

Publikasiedatum

1982

ISBN

0628021550 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Radiohoorspel

Pryse toegeken

Rapportryerskorps se Ruiterbeeld-toekenning 1984

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Bietjie luisterkuier

Publikasiedatum

1983

ISBN

0868160172 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Folio

Literêre vorm

Radiosketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die haasvanger

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1990

ISBN

0624022056 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

  • MER-prys vir Jeugliteratuur 1986
  • Scheepersprys vir Jeuglektuur 1984-1986

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karel Kousop

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624022609 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koms van die hyreën

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032930 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dubbelster

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034763 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koors

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035646 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brandoffer: vertellings uit die Tweede Vryheidsoorlog

Publikasiedatum

  • 1998
  • 1999

ISBN

0624037053 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die aarde waarop ek loop: biografiese sketse

Publikasiedatum

2003

ISBN

079933152X (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nag op ’n kaal plein

Publikasiedatum

2006

ISBN

079814713X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lang reis na Ithaka

Publikasiedatum

2009

ISBN

 9781869192938 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bleek planeet

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781869199210 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Portrette in my gang

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781485302308 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kroniek van turf

Publikasiedatum

2017

ISBN

 9781485306474 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Legkaart van ’n jong lewe: essays oor wat was en wat geword het

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485310099 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Herinneringslektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Berigte uit die skemerland

Publikasiedatum

2019

ISBN

 

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Artikels deur Dolf van Niekerk op die internet


Biografiese artikels oor Dolf van Niekerk op die internet

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Dolf van Niekerk (1929– ) appeared first on LitNet.


Helene de Kock (1943– )

$
0
0

Gebore en getoë

Helene de Kock is op 21 November 1943 op Sabie in die Oos-Transvaal gebore, die oudste dogter van Herman en Sylvia van Schalkwyk. Sy word groot in Boksburg waar haar pa predikant van die NG Gemeente Boksburg-Wes was. Helene is lank die enigste kind van die gesin. Haar suster Sunet is agt jaar na haar gebore.

Haar ma was ’n Engels-onderwyseres en het skoolboeke met ’n Suid-Afrikaanse agtergrond geskryf, wat Helene geïnspireer om ook te begin skryf. Haar ma het onder andere ’n Engelse roman, Drums at night, onder die naam Sylvia Bosman geskryf.

Hulle beleef baie gelukkige kinderjare in die pastorie op Boksburg. Van kleins af is Helene aan boeke blootgestel. Haar oupa en haar pa het beide groot boekerye gehad en sy was ’n eenkantkind wat baie gelees het – van Mikro en Heinz Konsalik tot sprokies en legendes.

Sy voltooi haar laerskooljare aan die Laerskool Hennie Basson en gaan na die Hoërskool Dr EG Jansen, waar sy en haar suster by haar ma klas gehad het. Sy was hoofmeisie van die skool. Jare later gee Helene Engels aan dieselfde skool terwyl haar ma departementshoof daar is.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Helene na die Universiteit van Pretoria, waar sy haar BA-graad met Engels en Duits as hoofvakke behaal, asook haar onderwysdiploma. Sy neem ook sanglesse aan die Konservatorium, en dit word ’n groot belangstelling in haar lewe. Sy het klavierlesse op skool geneem en haar pa wou hê dat sy daarmee voortgaan op universiteit, maar sy oortuig hom dat sy eerder sanglesse moet neem. Sy ontvang les by Xander Haagen, Nellie du Toit en later Rina Hugo, en tree as soliste op.

By Tukkies dien sy vir twee jaar in die redaksie van die studentekoerant Die Perdeby en later is sy ook waarnemende redakteur van Vrystaat, ’n streekskoerant van die Oos-Vrystaat.

Helene gee twee jaar onderwys en trou dan met Jos de Kock, tans ereprofessor aan die Universiteit van Pretoria en vroeër visepresident van die Landbounavorsingsraad. Drie kinders word uit die huwelik gebore: Jaco, Herman en Sylvia.

Sy en haar man woon in Pretoria. In Junie 2004 is Jaco in ’n motorongeluk oorlede en die boek As dood lewe word is die uitvloeisel van haar gevoelens na sy dood. Herman is ook ’n predikant en het ’n rubriek in Maksiman en skryf ook vir CUM en LAPA Uitgewers. Ook Sylvia skryf. Helen en Jos het twee kleindogters.

In 1968 gee Helene ook Engels aan die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland. Intussen gaan sy voort met sanglesse in Bloemfontein, waar sy self ook sang gee. In die laat tagtigerjare verhuis die gesin na Bethlehem in die Oos-Vrystaat, waar hulle vir agt jaar woon. Hier gee sy drie jaar lank geskiedenis aan die Hoërskool Voortrekker en tree sy ook op as soliste van die Cantus Choraliskoor. In 1990 word sy deur die Bethlehem Kultuurraad aangewys as Kultuurvrou van die Jaar.

Sy skryf haar eerste kortverhaal in haar tweede jaar op Tukkies. Huisgenoot aanvaar dit en "ek het toe gedink ek kan skryf, maar later uitgevind dat daar tog waarheid is in die spreekwoord een swaeltjie maak nie ’n somer nie, want daarna het elf verhale teruggekom.”

Helene begin weer skryf tydens haar kinders se babajare en na tien jaar word haar volgende verhaal gepubliseer. Sy skryf gereeld artikels vir die tydskrifte Finesse en Taalgenoot. Vervolgverhale verskyn in Huisgenoot en Sarie, asook heelwat kortverhale en novelles, en in 1978 word Die soete dwaling deur PJ de Villiers Uitgewers gepubliseer.

Helene het in 1998 haar meestersgraad cum laude in skeppende skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit behaal. Haar hoofonderwerp was “Dieper water: die skep van werklikheidsbeeld in ’n komplekse ontspanningsroman en ’n skryfteoretiese besinning daaroor” en haar roman Dieper water is ’n gevolg van hierdie kursus. In 2014 verwerf sy haar doktorsgraad aan dieselfde universiteit met Die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman.

Helene skryf nou voltyds en gee lesings oor die skryfkuns by die ATKV-Skryfskool aan Noordwes-Universiteit. Sy spreek gereeld leeskringe toe en hou van reis, lees en musiek, maar skryf bly haar eerste liefde. Kuiertyd saam met haar man en kinders is vir haar baie kosbaar.

Helene se skryfwerk dek ’n wye verskeidenheid genres. Sy doen nog steeds joernalistieke werk en skryf resensies van veral liefdesverhale vir koerante. Sy skryf graag oor die liefde, maar lê ook klem op die werklikheid van die lewe en die eise wat die lewe aan verhoudings stel. Oor die genre van goeie gewilde romans laat sy haar in 1991 soos volg uit: “Tot sowat tien jaar terug is ’n mens oor die vingers geraps as jy ’n gewilde roman geskryf het. Ontspanningsromans mag egter nie slordig en snert wees nie. Dit moet goedgeskrewe, egte verhale wees wat reg aan dié genre laat geskied. ’n Mens boet nie noodwendig aan die estetiese in as jy jou boek op die kommersiële mark rig nie. Ek pleit nie vir die goedgeskrewe ontspanningsroman ten koste van literêre werke nie. Ek pleit bloot vir ’n kind uit dieselfde huis.”

In 1988 is Kronkelpad na Vergenoeg benoem vir die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa en so ook ’n Kind vir Vier Oude Vrinde in 1989. Helene was die naaswenner in ATKV/Sarie se vervolgverhaalwedstryd met Sewende somer en Windspoor. In 1988 is sy ook die naaswenner in Rooi Rose se kortverhaalwedstryd met "’n Laaste maal". Sy wen die derde prys in Sarie/Ou Mutual se kortverhaalwedstryd met "Net nog ’n maal". In 2000 word Engel op die drumpel aangewys as naaswenner van CBSA se toekennings vir Christelike Publikasies in die kategorie fiksie en in 2003 word Omdat ek Ma liefhet wat deur Helene saamgestel is, aangewys as wenner van CBSA se toekennings vir Christelike publikasies in die kategorie beste geskenkboek.

Kortverhale van haar word onder andere in die bundels Dit kom van ver af en Kruis en dwars opgeneem wat onderskeidelik deur TT Cloete en Jeanette Ferreira saamgestel is en ook in die bundels Bittersoet sewe, Huisgenoot trefferverhale, Liefde in die lae lande en Van liefde en oorlog.

Helene doen goed navorsing as sy ’n boek skryf. Sy lees baie en voer onderhoude met mense om menslike optredes te verstaan. Vir haar boeke oor die wynbedryf het sy gaan kers opsteek by Nietvoorbij buite Stellenbosch en met baie wynmakers gesels. As sy die geleentheid kry, besoek sy en Jos ook die omgewing waarin haar boeke afspeel. Sy glo dat ’n skrywer vertroud moet wees met die omgewing waaroor hy of sy skryf, maar “[n]atuurlik kan jy oor ’n plek skryf waar jy nog nie was nie. Robert Louis Stevenson het Treasure Island geskryf sonder dat hy ooit in Amerika was. Maar ’n mens behoort die plekke te besoek, al kan jy net ’n kort wyle daar deurbring. Skrywers het gewoonlik die besondere gawe om die stemming op te slurp. Wanneer jy jou ruimte oortuigend kan uitbeeld, dra dit definitief tot die sukses van die verhaal by.”

Die belangrikste tema in Helene se boeke is die liefde, en veral haar oorspronklike werke is meermale ontspanningsromans. Die meeste van hierdie vroeër liefdesverhale is later weer uitgegee in 12 omnibusse wat by Human & Rousseau verskyn het.

Haar boeke slaan sedert die publikasie van Abel se dogters in 2003 ’n ietwat ander rigting in. Hoewel hierdie roman, en ook Dieper water (2007), Somersneeu (2010), Debora en seuns (2015) en Debora gaan huis toe (2017) nog almal die liefde as tema het, fokus Helene al hoe meer op die ingewikkeldheid van die verhoudings tussen haar karakters. In haar laaste twee boeke werk sy ook ’n goeie skeut geskiedenis by, en vandat sy in die 1980's van haar stories in die Riemland van die Oos-Vrystaat gesitueer het, het sy al meer gebruik gemaak van hierdie skilderagtige omgewing as agtergrond vir haar stories.

In Abel se dogters woon Abel Buitendag, ’n wewenaar, met sy drie dogters op ’n plaas in die Oos-Vrystaat. Die dogters raak egter al hoe meer ontevrede met die stil lewe wat hulle op die plaas voer. Hulle pa klou ook nog vas aan dit wat was. Maar wanneer hulle een vir een die plaas verlaat en hulle in ’n nuwe en groot wêreld bevind, beleef hulle al die verskillende fasette van hierdie nuwe lewe. Adelien, die oudste van die dogters, is ’n sielkundedosent in die stad en moet kies tussen twee mans in haar lewe. Maar sy as oudste suster bekommer haar oor die twee jongeres. Die jongste een, Christel, is nog op skool en is alleen op die plaas saam met haar pa wat haar alles toelaat, terwyl Bernadette ’n man gekies het van wie dit blyk dat hy haar nie gelukkig sal maak nie.

In 2007 verskyn Dieper water, en uit die flapteks is dit duidelik dat dit ’n liefdesverhaal is, maar nie sommer net ’n ligte liefdesverhaal nie. In die roman word daar meer indringend gekyk na die verhoudings wat ’n bydrae lewer tot die ontwikkeling van daardie liefde.

Dieper water vertel op ’n akronologiese wyse die storie van Rachel Roux (later Froneman) se lewe vandat sy twaalf is tot in haar sestigerjare en ook van haar verhouding met Hektor Froneman. Hulle twee het al vanaf hul kinderdae ’n besonderse verband. Saam met hierdie verhouding loop ook die verhaal van Rachel se ouma Rachie en oupa Nikolaas en ook dié van Rachel se ouers.

Tesame met hierdie verhaal loop ook die storie van Nadia Froneman, Rachel se kleindogter wat sy glad nie ken nie. Nadia se lewe na haar pa se skielike dood word uitgebeeld en loop saam met haar op die pad na die familieplaas, Diepwater, waar sy gaan besoek aflê – vir die eerste maal in 25 jaar.

In ’n onderhoud met Madri Victor op LitNet vertel Helene meer oor die inspirasie agter die skryf van Dieper water. "Die stimulus vir die roman was my idee dat daar ’n geslag is wat voor of tydens die Tweede Wêreldoorlog gebore is wat noodgedwonge moes gewoond raak aan paradigmaskuiwe of vervreemd raak van hul leefwêreld. Hulle moes byvoorbeeld die digitale en kommunikasie-revolusie leer begryp. Hulle is ook blootgestel aan die hibridisering van werklikheidsbeelde, aangesien hulle sowel die naoorlogse jare as die huidige era rondom die millenniumwending ervaar het. Hul leefwêreld was, na alle waarskynlikheid, blootgestel aan die meeste veranderings en nuwighede waaraan enige generasie nog ooit blootgestel was. Hulle het byvoorbeeld op wetenskaplik-tegnologiese gebied baie dinge vanaf die wye gebruik van plastiek tot die ontdekking en gebruik van antibiotika, hartoorplantings, die landing op die maan en die ontdekking van DNS, ensovoorts beleef. Hulle moes leer om met tikmasjiene te werk en toe rekenaars bemeester. Hulle moes van slingertelefone tot die mees moderne selfone en ipods leer gebruik. Of agterbly en verstar. Hierdie generasie wou ek graag in ’n ontspanningsroman vergestalt."

Omdat Dieper water die uitvloeisel was van haar M-graad, moes Helene "verskillende vorme van tydgees (postkoloniaal en postmodern) in die roman uitbeeld. “Ek het dus besluit om die roman oor ’n eeu te laat afspeel. Drie (en meer) storielyne sou nodig wees om dit te kan doen, sodat ek die verskille in vorme van werklikheidsbeeld of vorme van tydgees daar kon stel. Die karakters (vernaamlik die hoofkarakters Rachel en Hektor) sou sedert die Tweede Wêreldoorlog tot en met die einde van die millennium blootgestel wees aan verskillende vorme van tydgees wat hul lewens ten seerste sou beïnvloed. Maar – dit was nog net die idee. Toe moes ek drie storielyne uitdink wat hierdie tema sou kon dra."

Vir Victor het sy met die lees van Dieper water gevoel asof die storie oor werklike mense en plekke gaan. Sy wou by Helene weet waar sy haar materiaal vir die roman gekry het en of dit op werklikheid gebaseer is. Helene vertel aan haar dat die roman se verhaallyne geensins op die werklikheid gebaseer is nie. Sy het dit versin omdat sy ’n roman moes skryf as deel van haar verhandeling.

"Die drie storielyne (daar is eintlik meer) is werklik bloot gefabuleer. Maar, in énige fiksie is daar elemente van die werklikheid. Daar is byvoorbeeld die werklikheid van my verlies. Ek het, alhoewel dit geensins ’n treurige boek is nie, byna onbewustelik die dood van my oudste kind hierin ingewerk. Verlies is dus ’n tema in die boek. Enige skrywer skryf ook uit herinnering en ervaring. Elemente van my herinnering aan die Oos-Vrystaat, waar ek lank gewoon het, asook my ervarings met mense oor die algemeen vind sekerlik neerslag in die boek soos in enige boek van my. Daar is ook die soeke na identiteit wat in Dieper water voorkom. Feitlik almal van ons in die Nuwe Suid-Afrika is op soek na ’n alternatiewe identiteit wat ons in ons eie land gemakliker sal laat inpas. Dit wat ek dus uit ervaring en herinnering met my saamdra, plus, soos George Weideman dit stel, 'die wilde perd van die verbeelding', het geïntegreer en uiteindelik die verhaal gevorm.

"Dis ’n interessante kwessie hierdie, van wat werklik ís en wat nié. Clara Reeve het in 1785 al gesê: 'The novel is a picture of real life and manners, and of the time in which it is written.' Enige roman se plot weerspieël dus ’n bepaalde beeld van die werklikheid en hopelik doen die plot van die roman Dieper water dit ook. Enige skrywer se siening van die lewe vind neerslag in sy of haar skryfwerk en my eie beeld van die werklikheid, asook ander vorme van tydgees wat ek in my lewe ervaar het, het sekerlik deel van die grondgedagte of temas van Dieper water geword."

Of sy van haar karakters op mense wat sy ken, skoei, stel Helene dit onomwonde dat sy nooit by haar vriende "steel" nie, want sy is nie gemaklik daarmee dat sy mense wat sy ken, probeer naboots nie. "Dat sekere eienskappe van mense uiteindelik in die een of ander karakter neerslag vind, is seker ook waar, maar dit word nie bewustelik gedoen nie. My karakters word wel vooraf deeglik uitgedink. ’n Skrywer moet sy/haar karakters baie goed ken voordat daar geskryf word. Ek moes toe karakters skep wat in Dieper water sou pas, byvoorbeeld Ouma Ragie, wat tydens die Anglo-Boereoorlog geleef het, en Rachel Froneman, wat beide die postkoloniale tydperk en die postmoderne tydperk beleef. Sy moes byvoorbeeld soepel genoeg van aard wees om in verskillende eras aan te pas – al sou sy ook, nes die ander karakters in die roman, teen die draai van die millennium begin soek na ’n alternatiewe identiteit. Die ander karakters is ook so geskep en voorgestel sodat hulle in die verhaal pas. Dit mag nou vreemd klink, maar die verhaallyne het ook veel te danke aan die karakters self. Daar is noodwendig en onvermydelik ’n intieme wisselwerking tussen verhaal en karakters."

Oor die titel Dieper water wou Victor weet wat dit vir Helene simboliseer. Haar antwoord hierop is: "Baie skrywers skryf graag met ’n titel voorop in gedagte. Ek is een van hulle. Ene Rozelle het gesê: 'Your title is your very first offering to your reader.' Ek het deur jare lange ondervinding vasgestel dat ek moeilik skryf sonder ’n titel wat vooraf uitgedink word. Toe die idee van hierdie roman begin ontvou, het ek dadelik aan ’n plaas met die naam Diepwater gedink. Die naam het my bloot geval en aangesien daar ’n (uitgedinkte) spruit met diep poele op die plaas sou wees, het dit soos die gepaste naam vir die plek geklink waar ek ’n storie wat oor ’n lang tydperk strek, kon laat afspeel. Op dié denkbeeldige plaas, Diepwater, as basisruimte, sou daar dan drie verhale in drie verskillende periodes afspeel.

"Ek het gedink dat die titel Dieper water moontlik beelde en assosiasies by die leser kan oproep wat hom/haar kan prikkel om die boek te begin lees. Water is so ’n metafoor wat organies uit hierdie konteks kon ontwikkel. Die titel kon hopelik dus reeds ’n beeld by die leser oproep. Die titel Dieper water bevat moontlik sensoriese beskrywing wat ’n aanspraak op die leser se sintuie mag maak.

"Die titel vir hierdie roman was vir my dus byna van meet af aan Dieper water. Nie alleen sou dit dui op die plek Diepwater met sy diep spruit nie, maar die Dieper in Dieper water sou hopelik ook assosiasies wek van simboliese graadverskille in lief en leed. Dit kan ook dui op verskillende tydperke wat dieper die verlede in lê. Ek het gevolglik gedink die titel Dieper water sou wel aanduidend wees van die inhoud van die roman. Die eerste vlak van kommunikasie tussen die skrywer en die leser is dikwels die titel van die werk, waardeur sekere verwagtinge geskep word. Ek sou dus hopelik reeds deur die titel iets soos water, wat ’n sintuiglike aanklank het en soms as simbool kan dien, met die leser kon deel."

Op LitNet skryf Lenelle Foster: "Dieper water is 'geen groot letterkunde nie' (bl 46) – aldus Rachel. Dis nie 'te elitisties nie, om nie die gewone leser wat die boek hopelik gaan koop, af te skrik nie. Nie te soetsappig nie, om die hogere mense te laat neus optrek nie' (bl 44). Lesers wat ’n boek soek om mee te ontspan en wat van liefdesverhale hou, sal waarskynlik hierdie roman geniet."

In 2010 verskyn Somersneeu, waarin Helene vertel van ’n klompie vriende wat in 1999 in hul matriekjaar op ’n Oos-Vrystaatse dorpie woon. Rouke Bruwer, die seun van Barbara, ’n kunstenaar, is die leier van die groep. Sy pa is in Namibië oorlede en hulle het daarna na die Oos-Vrystaat getrek. Hy is dolverlief op die predikant se dogter, Karien. Die res van die vriende is die pragtige Julia, die neefs Robert en Brett van Coller, Matteus Mokoena, Londa Genis en Betsie Ntombela, met Karel en Joubert Gerber, ’n tweeling, wat later ook deel van die groep word.

"Die verhaal volg die lewensverloop van hierdie vriendekring vir die eerste dekade ná skool. Van die vriende vertrek na Londen waar hulle die lewe en mekaar se donker kant leer ken. Skynbare verraad skeur byna die vriendekring uitmekaar, maar uiteindelik leer hulle om mekaar te vergewe.

"Oor die jare heen behou die vriende kontak en bly op hoogte van mekaar se lief en leed deur e-posse en SMS'e wat die wêreld klein en die roman eietyds maak," skryf Adéle Dempers in Volksblad (5 April 2010). "Sneeusomer is ’n liefdesverhaal wat probeer om allerhande wyshede oor te dra. (...) ’n Groot, amper te groot, deel van die verhaal word afgestaan aan Rouke se worsteling oor wat hy moet word. (...) Die ontknoping volg te blitsig en seepglad. Meer besinning oor die aktuele kwessies en Rouke se ma se geheim sou eerder hier gepas gewees het as die byna 250 blaaie wat aan Rouke se gewroeg oor sy toekoms afgestaan word. Ongeag klein irritasies sit ’n mens eindelik tog Somersneeu neer met ’n behaaglike 'Aa, dis mooi!' Soos wat dit ’n ordentlike liefdesverhaal betaam."

Op LitNet is Suzette Kotzé-Myburgh dieselfde mening toegedaan: "Somersneeu sal ongetwyfeld in die smaak val van hierdie skrywer se vele aanhangers – sy is immers een van ons liefdesverhaalskrywers wat al die langste publiseer. Helene de Kock se karakters is altyd mooi en slim, hulle leefwyse stylvol en bevoorreg. Tog beskerm dit hulle nie teen die lewe se swaarkry en pyn nie.

"Benewens dit wat reeds beskryf is, ondersoek die verhaal nog relevante kwessies: ’n man wat ’n recce in die grensoorlog was en sukkel om weer by die samelewing in te pas; die seun van vooraanstaande ouers wat aankondig dat hy gay is én nog ’n paar dorpenaars uit die kas laat klim; ’n identiteit wat jare lank verswyg word en uiteindelik verwarring saai.

"Die verhaal lees glad, hoewel daar heelwat karakters is. Die karakters klink ook soms baie dieselfde – hulle druk hulleself op ongeveer dieselfde manier uit, ouer sowel as jonger karakters, ten spyte van die gebruik van Engelse woorde om laasgenoemde se taal te probeer weergee."

In 2015 word Helene de Kock se 37ste roman gepubliseer onder die titel Debora en seuns. En met hierdie roman lewer sy weer eens bewys van haar vakmanskap: dit vertel’n verhaal wat die leser tot die laaste blad sal boei.

Riette Rust (LitNet) noem dit ’n "historiese verhoudingsroman. Die roman wentel om die vervlegting van twee gesinne se lewens op ’n Oos-Vrystaatse dorpie. Die Tweede Wêreldoorlog dien as agtergrond; ’n milieu wat sterk figureer en sy tol van karakters eis.

"Margot Scott en haar ma, Susan, lei ’n eenvoudige, onopwindende lewe. Hoewel die dorpenaars na Susan as weduwee verwys, het sy nooit met die Britse pa van haar dogter getrou nie. Al wat ma en dogter van die man aangeneem het, is sy van. En al wat Margot van hom het, is ’n foto in sepia."

Dan kry die Scotts nuwe bure in die vorm van die Schlagerfeldts – Debora, haar invalide-man Dieter en hul drie seuns uit Duits-Suidwes-Afrika. Margot en Debora word baie goeie vriende Debora se jongste seun word haar beste vriend. Hy is in die geheim verlief op die Engelse onderwyseres, terwyl Heinrich, die middelste seun, betrokke is by ’n Joodse meisie.

Maar dis Marnitz, die oudste broer, wat Margot se hart steel. As mediese dokter sluit hy by die oorlog aan, maar moet sy naam verander omdat hy té Duits voorkom. Margot gaan Engeland toe om hom te soek, en om geld te verdien word sy ’n fisioterapeut by Guy's Hospital.

Riette Rust gaan voort: "Dis in Londen waar sy (Margot) haarself leer ken. Dit kan nie anders nie, want daar moet sy teen die bomme skuil, uitvind wat versperringsballonne is en leer om met minder en valer kos klaar te kom. Kordiet, vrees en bekommernis word deel van haar daaglikse bestaan. Maar 'die liefde kan dit werd wees,' bespiegel sy.

"Nie net Margot se karakter ontwikkel nie, maar ook die terughoudende Marnitz word mensliker. Trouens, al die belangrike karakters is geloofwaardig en ontwikkel behoorlik met verloop van tyd.

"Die skrywer het vanselfsprekend die oorlog in besonderhede nagevors, maar die navorsing verdring nooit die storie nie – dis netjies geïntegreer. Die leser kan boonop die verhaal besonder sintuiglik ervaar. (...) Die taalgebruik is dikwels treffend. (...)

"Wat pla, is enkele clichés, waaronder 'porseleinwit tande', tande wat 'wit flits' en nog ander.

"De Kock weet egter hoe om gepas sensueel te skryf. Die liefdestonele suggereer, eerder as dat dit uitspel. En hoe romanties is dit nie, daar onder in die Anderson-bomskuiling! Uiteindelik word al die los drade tot ’n netjiese eenheid saamgeknoop. Sommige antwoorde of oplossings is dalk net te positief vir die literati. Vir lesers van liefdesverhale werk dit, maar hierdie roman is veel, veel meer as dit."

Vir Elmari Rautenbach styg Debora en seuns bo die stereotipiese liefdesroman uit in De Kock se dramatiese beskrywing van Londen gedurende die Blitz. "Jy ruik die kordiet, waak saam met die inwoners by kerslig in beknopte Anderson-skuilings, proe die lekkerte van ’n kosbare leksel konfyt op roosterbrood, ’n flou koppie tee" (Die Burger, 4 April 2015).

Oor die inspirasie agter die ontstaan van Debora en seuns deel Helene haar herinneringe met Elmari Rautenbach (Die Burger, 3 Maart 2015): "Ek is gedurende die Groot Oorlog gebore. My pa was ’n NG predikant; my ma ’n onderwyseres. Ons was, soos die meeste ander mense, maar brandarm met die traumatiese nasleep hiervan. Alles was skaars. As ek reg onthou, het dit meer as ’n dekade geneem om behoorlik op die been te kom. My ouers het dikwels gepraat oor die ná-oorlogse jare, hoe stukkend dié was wat teruggekom het en hoe moeilik verkrygbaar dinge was. Ons het toe al baie by die familie in die Oos-Vrystaat gekuier en ek onthou veral die gestrooptheid van daardie jare."

Oor haar interessante navorsing oor die oorlog in Londen, wei sy verder uit teenoor Rautenbach: "Die BBC se argiewe is vol wonderlike verhale. Sommige van die sekwense van die boek het ook werklik gebeur. Nou moet ek dadelik byvoeg: die feite is aangepas (nie verdraai nie!) om by die storie te pas. Dan, die dokter wat my mangels as kind uitgehaal het, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Guy's Hospital in Londen gewerk en sy weduwee het tydens latere onderhoude lig op die leefwyse daar gewerp. Ek het ook uitgevind fisioterapie, waarin die hoofkarakter haar bekwaam, was daardie tyd nog in sy kinderskoene, en fisioterapeute is eers 'masseuses' genoem."

In 2017 verskyn die volgende boek oor Debora getiteld Debora gaan huis toe. In hierdie verhaal staan die 1960's–1970's (toe die Koue Oorlog sy hoogtepunt bereik het) sentraal. Dit was in 2018 op die kortlys vir die ATKV-prys vir liefdesromans.

Helene vertel aan JB Roux (Vrouekeur, 29 September 2017) oor haar besluit om haar roman in daardie tydgleuf te plaas: "Om die Koue Oorlog te betrek, was ’n natuurlike uitvloeisel van die vorige boek, Debora en seuns, waar die jong Debora se pa reeds tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Britse intelligensiediens MI6 betrokke was.

"Sy is dus ’n bekende in daardie kringe wat haar in haar kleintyd in Londen sien grootword het. Verder het ek en my generasie natuurlik die Koue Oorlog beleef. Ons was bepaald bewus daarvan en daar is toe al heelwat boeke daaroor geskryf.

"Die Koue Oorlog het reeds omstreke 1947 begin. Dit interesseer my steeds baie. Ek is terloops klaar met die Debora-reeks, maar ek is wel met ’n ander reeks besig.

"Al is daar baie intrige in die boek soos die wêreld van internasionale spioenasie, is daar ’n sterk liefdeselement. Ek noem dié boek ’n liefdesroman. Ek het nog altyd liefdesromans geskryf, maar ek wil beklemtoon dat ’n liefdesroman ook ’n verhoudingsroman is. Liefde bestaan nie in ’n vakuum nie. Daar is altyd ander verhoudings by betrokke, soos dié tussen moeder en dogter of tussen sibbe.

"Dit beteken nié dat romanses – ek het daarvan ook ’n paar geskryf – ’n mindere subgenre is nie. Daar is bloot ’n verskil tussen die twee subgenres. Verder kan ’n verhoudingsroman amper net soveel spanning as enige ander roman bevat. Trouens, ek reken die spanningslyn behoort in dié genre sterk te wees."

Soos reeds genoem, "leen" Helene nie by bekendes en vriende om haar karakters te teken nie. Maar sy glo wel dat alles wat werklik gebeur, in ’n liefdesroman beslag behoort te kry. "Die wenslikheid daarvan hang af van die manier waarop ’n skrywer dit hanteer. In Debora gaan huis toe is daar sprake van dood en ellende asook groot teleurstellings, tog glo ek dit hoort in die storie.

“Daar is natuurlik, nes in die werklike lewe, lekker dinge ook. Die verhouding tussen die lede van die Schlagerfeldt-familie word, glo ek, eg en warm uitgebeeld. Ek glo aan hegte familiebande, miskien omdat ek bevoorreg genoeg is om dit self te kan geniet. Natuurlik moet ’n mens aan sulke verhoudings werk. Ek dink die feit dat Debora en haar ouma, ook Debora, ’n liefdevolle verhouding het, spruit uit die feit dat ek en my kleindogters, Hanna en Emma, so ’n lekker, spontane verhouding het."

Die jong Debora in Debora gaan huis toe is ’n dokter. In daardie tyd was vrouedokters nog nie so ’n algemene verskynsel nie. Hieroor vertel Helene aan JB Roux dat sy geen feminis is nie, maar dat sy glo dat ’n vrou haarself op alle terreine moet kan laat geld. En om dit te kan doen, hoef sy nie afstand te doen van dinge soos haar vroulikheid, karakter, styl of intelligensie nie.

Oor hoe sy haar liefdesheld sien, vertel sy aan Roux: "Ek vermoed die blonde Tristan in Debora sal baie vroue se harte warm laat klop, maar ek het nie iets soos die 'perfekte' liefdesheld nie. ’n Karakter meld hom aan met foute en al. Tristan is byvoorbeeld nie iemand wat maklik kommunikeer nie. Sy agtergrond maak dit vir hom moeilik. Tog het ek baie van hom gehou. Hy het integriteit en dit is vir my van groot belang.

"Daar sterf mense in die boek en mense wil soms weet of dit vir my moeilik is om op so ’n manier van ’n karakter afskeid te neem. Ja, dis moeilik. Dit verg kophou sodat sulke sekwense nie te emosioneel is nie, maar tog die aakligheid van afsterwe uitbeeld. Maar dit is tiperend van ’n liefdesverhaal wat werklikhede hanteer.

"Ek vermoed ook dat ek met ’n mate van eerlikheid oor die dood van ’n geliefde kan skryf aangesien ons ons oudste kind, Jaco, aan die dood moes afstaan toe hy 33 jaar was. Genadiglik het daar sedertdien 13 jaar verloop en ons het deur die genade van Bo heel geword. Ek en my man, Jos, weet waardeur ouers gaan wat ’n kind afgee. As ’n skrywer so ’n verlies beleef, kry dit byna outomaties neerslag in sy of haar verhale. ’n Mens het eenvoudig groter begrip vir verlies en die implikasies daarvan."

Op Netwerk24 (15 Oktober 2017) skryf Tania du Toit dat Helene de Kock se "gevestigde hand in verhoudingsontwikkeling binne wisselende milieus" duidelik sigbaar is in hierdie opvolg tot Debora en seuns.

"Volwasse kleinkinders van dié vorige geslag moet in Debora gaan huis toe sin vind binne ’n bestel waarin hulle, soos hul ouers en grootouers, andersdenkend binne die Suid-Afrika van die sestigs leef. Én dan met lewensingrypende gevolge moet saambeur wanneer hulle dienooreenkomstig optree. (...)

"Tuiskoms in alle fasette word bepeins en gedemonstreer in die versteurde verloop van jong liefde binne komplekse lewensruimtes en -'reëls'. Buiten die romantiese konteks, bied universele vrae oor waar jou huis is en waaraan jy 'tuiswees' meet, vir hedendaagse Suid-Afrikaners binne enige verband aktuele gespreksmateriaal.

"Dié verhoudingsroman is ’n gedetailleerde tydsdokument van Suid-Afrika in die sestigs, Brittanje en Europa. Waarneming van plek, situasie en mens figureer sterk, in pas met die karakters as soekendes. Die teks bied ’n jonger geslag lesers insiggewende 'toegang' tot hul ouers se gesprekke rondom die destydse Koue Oorlog, aspekte van die lewe binne apartheid (indien jy andersdenkend was) en kodes van die tyd, binne ’n boeiende liefdesverhaal. (...)

"Interessante aanknopingspunte én ontknopings lê in die ruimtes waarbinne karakters telkens liefde soek én vind: bisarre gegewens vol adrenalien of pyn, dog getrou aan konkrete lewensituasies. Humor is daar genoeg, soms fynspot.

"Kontinuïteit tussen die vorige en dié roman is naatloos. ’n Oningewyde leser kan wel Debora gaan huis toe sonder belemmering volg, aangesien die voorgeskiedenis effektief in die teks ingeweef word. Historiese gegewens is deeglik nagevors. Herhaling van hebbelikhede soos 'swaartillend', 'toeskulp', 'suiselend' en 'skigtig' kan besnoei word, of die cliché van 'kobaltblou lig', maar dit raak piepklein klippies op ’n buitengewone, spanningsvolle hartspad huis toe."

Ook in 2017 verskyn Kruispad vir Kara by CUM Boeke, ’n liefdesverhaal met ’n christelike strekking. Op Goodreads skryf Amanda oor die boek: "Kara Geertse het alles wat ’n student kan begeer: joolprinses, rykmansdogter en begaafd. En sy het vir Jannes Conradie, skatryk en invloedryk op die kampus. ’n Dramatiese reeks gebeure pluk egter die mat onder haar uit en laat haar sonder heenkome, sonder geld, en helaas sonder geloof dat daar 'n Vader in die hemel kan wees wat omgee vir haar. Gou kom sy agter dat dié wat sy as vriende geag het, haar nie meer wil ken nie, en geensins ondersteun nie. Haar pad kruis met eenvoudige mense wat sterk staan in die geloof wat sy so heftig bevraagteken.

 

“Met haar liriese taalgebruik en goeie Woordkennis, slaag Helene de Kock daarin om ’n verhaal van verlies, selfondersoek, soeke na God en uiteindelik oorwinning vir haar lesers te skets. Ook die liefde word nie afgeskeep nie. As jy hou van ’n geestelike fiksieverhaal, verweef met ’n besondere liefdesverhaal, kan jy hierdie een maar gerus aanskaf.” 

Helene skryf nie net liefdesromans nie. ’n Aantal boeke vir kinders en die jeug het al uit haar pen verskyn, soos Hoor jy die skoenlappers? waarin vertel word van ’n sestienjarige se stryd met haar doofheid, totdat sy besef dat ’n mens nie regtig ore nodig het om werklik te kan hoor nie. Vir kinders skryf Helene boeke met ’n godsdienstige tema, soos Job, die ashoopman, Openbaring, die boek wat ons bly maak en Die eerste nagmaal.

In As dood lewe word probeer sy om haar emosies na die dood van haar seun te verwerk. Dit is ook in Engels vertaal.

In 2000 word Engel op die drumpel aangewys as naaswenner van Christelike Boekhandel van Suid-Afrika (CBSA) se toekennings vir christelike publikasies in die kategorie fiksie. Sy is die samesteller van ’n paar bundels, soos Vroue van geloof, Omdat ek Ma liefhet, God se mense (in samewerking met Maretha Maartens, Hennie Maartens, Elsje Büchner, Herman de Kock en Christo de Klerk) en ’n Pa soos myne. In 2003 word Omdat ek Ma liefhet aangewys as wenner van CBSA se toekenning vir christelike publikasies in die kategorie beste geskenkboek.

Publikasies:

Publikasie

Die soete dwaling

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1994 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0796400334 (hb)
  • 186839039X (hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: PJ de Villiers
  • Pretoria: Daan Retief / Kennis Onbeperk
  • Pretoria: Makro
  • Kaapstad: Ametis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sonder winter

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1994
  • 1995
  • 1997

ISBN

079810905X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Kaapstad: Ametis
  • Pretoria: Kennis Onbeperk
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gruispad na Tóg Wat

Publikasiedatum

1980

ISBN

07981110031 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ruitjiesvenster

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1995 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0868140740 (hb)
  • 1868392082 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Daan Retief
  • Pretoria: Daan Retief / Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Man van gister

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1994

ISBN

0798109521 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ver vlug na môre

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1995 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0798111690 (hb)
  • 0868126667 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bruidseisoen: twee novelles

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1994

ISBN

  • 086814262X (hb)
  • 1868390403 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamer van die stormwind

Publikasiedatum

1982

ISBN

079811410X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met vandag se brood

Publikasiedatum

  • 1982
  • 1984

ISBN

0798112565 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Digby Grootgewaag

Publikasiedatum

  • 1983

ISBN

  • 062401889X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Plek van die bittermaan

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1997 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 079811584X (hb)
  • 186839882X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die herfsbelofte

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1999 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0798117796 (hb)
  • 186839963X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soet wyn vir ’n Sondagskind

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1997 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0624022684 (hb)
  • 1868398730 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ballade vir ’n bruid

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119926 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kronkelpad na Vergenoeg

Publikasiedatum

  • 1986
  • 1998 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0798119829 (hb)
  • 1868399575 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Joernaal van ’n winterjaar

Publikasiedatum

  • 1988
  • 2000

ISBN

0624026124 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Kind vir Vier Oude Vrinde

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798121971 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Seisoen van die skimmelson

Publikasiedatum

1989

ISBN

0795917902 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uur van die Sewester

Publikasiedatum

1989

ISBN

079812346X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Windspoor

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624027767 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vuurvliegie

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798126345 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sewende somer

Publikasiedatum

1990

ISBN

079812752X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Saterdagskind

Publikasiedatum

  • 1991
  • 1998 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0798128364 (hb)
  • 1868399613 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Môrester, môrester: 8 novelles

Publikasiedatum

1993

ISBN

0799319406 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Man van kaliber

Publikasiedatum

  • 1994
  • 1999 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0624033228 (sb)
  • 1869040449 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sonder winter

Publikasiedatum

  • 1994
  • 1995 (Grootdrukuitgawe)
  • 1997 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0798133597 (sb)
  • 0868126659 (sb)
  • 1868398811 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Ametis
  • Pretoria: Makro
  • Pretoria: Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met vandag se brood

Publikasiedatum

1994 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

08681257776 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Man van gister

Publikasiedatum

1994 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

0868125733 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Vrystaat is verniet: 5 liefdesnovelles

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799322938 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Volmaakte versnit

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798134763 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tiendes van silwer

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136235 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vrou van formaat

Publikasiedatum

  • 1996
  • 1999 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0624034461 (sb)
  • 1869040716 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

7 liefdesnovelles

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799324604 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Job, die ashoopman

Publikasiedatum

1997

ISBN

1868152758 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Bybelverhale vir kinders

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mense van faam

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138440 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Engel op die drumpel: ’n jong vrou se stryd met die bande van bloed

Publikasiedatum

1999

ISBN

1868293769 (sb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Openbaring, die boek wat ons bly maak

Publikasiedatum

1999

ISBN

-

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Bybelverhaal vir kinders

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die skadubelofte en ander liefdesverhale

Publikasiedatum

  • 1999
  • 1999 (Grootdrukuitgawe)

ISBN

  • 0798139234 (sb)
  • 1868399729 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Riemland. Tweeluik

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798140011 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die eerste nagmaal

Publikasiedatum

2000

ISBN

-

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Bybelverhale vir kinders

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 1

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140615 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Wynland omnibus

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140771 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 2: Van liefde en oorlog

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141883 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hoor jy die skoenlappers? ’n Jong meisie se wonderontdekking van sin in ’n dowe wêreld en die besef dat stilte sy eie melodie het

Publikasiedatum

2001

ISBN

1868297268 (sb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 3: Liefde in die Lae Lande

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142278 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vonkeljaar se kind

Publikasiedatum

2002

ISBN

0799330221 (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 4

Publikasiedatum

2003

ISBN

0798142316 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Abel se dogters

Publikasiedatum

2003

ISBN

0798143800 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 5

Publikasiedatum

2003

ISBN

0798143797 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Tyd om lief te hê

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042251 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Mirre

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 6

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798144386 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde is ’n klipgooi ver: 6 novelles

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799333212 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 7

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798145226 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 8

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798144998 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 9

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148665 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lelie van die laagte

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045663 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Mirre

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dieper water

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798149075 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As dood lewe word

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781431615452 (sb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Nie-fiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 10

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798153232 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die hemelburgers: ’n roman

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781770004610 (sb)

Uitgewer

Vereeniging: CUM

Literêre vorm

Godsdienstige roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Omnibus 11

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798153690 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Somersneeu

Publikasiedatum

2010

ISBN

97870798151153 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 12

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798151726 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

When death becomes life: the loss of a loved one – how to find consolation

Publikasiedatum

2012

ISBN

978162095581 (sb)

Uitgewer

Potchefstroom: BookBaby Selfpublishiing

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Debora en seuns

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798169592 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Debora gaan huis toe

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798176132 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Keur 1

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798176071 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Keur 2

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798176439 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kruispad vir Kara

Publikasiedatum

2017

ISBN

9781431620135 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Christian Art Publishers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Keur 3

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780798177504 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Helene de Kock as samesteller

  • Vroue van geloof: 31 dagstukke oor Maria, moeder van Jesus; saam met 11 ander medewerkers. Vereeniging: CUM, 2001
  • Omdat ek ma liefhet: ’n bundel wat geesdriftig hulde bring aan moeders en skoonmoeders; hulle wat vir ons die lewe oopmaak. Vereeniging: CUM, 2002 [ISBN 1868298221 (sb)]
  • God se mense; saam met Maretha Maartens, Hennie Maartens, Elsje Büchner, Herman de Kock en Christo de Klerk. Vereeniging: CUM, 2002
  • Because I love you, Mom. Vereeniging: CUM, 2003
  • ’n Pa soos myne. Vereeniging: CUM, 2003

Artikels oor en deur Helene de Kock beskikbaar op die internet

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Helene de Kock (1943– ) appeared first on LitNet.

Lina Spies (1939– )

$
0
0

Foto deur Naomi Bruwer

Sêgoed van Lina Spies

In 1994 op ’n vraag of Afrikaners sal oorleef: "Net as Afrikaners hul selftrots terugkry en die waarde van hul taal besef. [...] Niemand het nog vir my gesê wat in hierdie land vir Afrikaanstaliges sal oorbly as ons taal verdwyn nie. Afrikaanssprekendes wat vir hulle ’n gelukkige toekoms voorstel sonder hul taal, besef nie dat dit is jou hele menswees nie. As jy nie kan leef in jou moedertaal nie, leef jy ’n tweedehandse lewe.”

Die beste raad wat sy in haar lewe gekry het: “Om altyd die waarheid te praat, selfs al kan jy nie altyd die volle waarheid sê nie. ’n Mens moet soms ander mense beskerm, maar jy mag nooit probeer om jou uit ’n situasie te jok nie.” (Voorligter, Augustus 1992)

“Ek leef in die wêreld van die woord, maar ek is ook lief vir rugby en musiek, veral sang. Deur die woord ... poësie ... kan ek my belewenisse interpreteer soos wat ander mense dit nie kan doen nie. Dit verminder dalk die pyn wat ’n mens beleef en gee jou ’n mate van beheer oor die situasie.” (Rooi Rose, 11 April 1990)

“Ek dink nie goed soggens nie, want ek is nie ’n oggendmens nie. Ek dink op my beste wanneer ek stap. Ek loop as ’t ware my gedigte uit. Dit help selfs as ek in my huis is en in die gang afstap om vir my tee te gaan maak.” (Sarie, 13 Januarie 1999)

“Dis my moedertaal wat my volkome mens maak.”     

“Die verdwyning van geskrewe Afrikaans sal dié visuele verarming beteken wat mense in die vroeëre kommunistiese lande ervaar het en waarteen hulle hulle moes verset: uit die oog, uit die hart.” (Die Burger, 31 Januarie 1994)

“Deur my poësie wil ek verdere protes aanteken teen ’n charismatiese rigting in Afrikaners se godsdiensbelewing wat ’n ondraaglike familiariteit in die omgang met God teweeg bring. So ’n goedkoop, familiêre godsdiens grens aan die godslasterlike. In hierdie opsig is ek ’n totale postmodernis. Mense besef dit nie, hulle plaas my in ’n ouer generasie, maar ek glo ons het net tekste en nie een van ons weet wat agter daardie tekste lê nie. Daarom het ek respek vir ’n ondeurgrondelike God.” (Rapport, 11 April 2004)

Oor ’n hunkering na die verlede: “Ek is nie besig om te sit en treur nie. Natuurlik treur ek, maar nie op so ’n wyse dat die toekoms onbelangrik raak nie. ’n Mens moet leer om in die hede te leef.” (Rapport, 11 April 2004)

Oor die skildery van Adriaan van Zyl op die buiteblad van Duskant die einders en ’n vraag of dit in aansluiting is by Hennie Aucamp en Braam de Vries se verliesliteratuur: “Dit is nie ’n bewuste navolging nie, maar aan die ander kant is dit ook nie toeval nie. Ek, Abraham en Hennie behoort tot dieselfde generasie. Ek het ook ’n plaas in my verlede. Voeg daarby die stimulasie van herinnering: as ’n mens jonk is, is dit nie so belangrik waar jy vandaan kom nie. Dit is later in jou lewe dat jy bestekopname doen.” (Rapport, 11 April 2004)

“Dié een daad wat van ons geverg word om die Afrikaanse boek te red, behoort ons egter helder voor oë te staan: Ons as Afrikaanstalige lesers moet boeke koop. Elke Afrikaanstalige wat Afrikaans liefhet, behoort minstens Jaap Steyn se biografie oor NP Van Wyk Louw op sy rak te hê. Die voorwaarde vir die koop van boeke is uiteraard ’n liefde vir die letterkunde; ’n liefde wat gestimuleer moet word deur ouers en die skool. ’n Mens wat lees, word ’n leeftyd lank innerlik verryk.”

"Ek het ook ’n hartstog vir die musiek en ek moet erken byna uitsluitend vir klassieke musiek. Dit is dan seker ook die rede waarom ’n gedig by my eintlik altyd by ’n versreël begin en alhoewel ek hoofsaaklik die vryevers beoefen, is die ritmiese struktuur vir my van die allergrootste belang. Wanneer daar iets met die ritme haper, hinder dit my en sal ek alles in my vermoë doen om dit reg te stel." (Johann de Lange se blog)

"Wat ek veral van Opperman as mens onthou, is sy kompromislose eerlikheid en sy integriteit. Hy was ’n 'man for all seasons' en deurentyd was sy belangstelling in my digterskap vir my ’n steun en ’n inspirasie. Die herinnering daaraan vervul nog steeds vir my hierdie funksie." (Johann de Lange se blog)

Oor haar liefde vir Nederland en Amsterdam spesifiek: "Amsterdam is ’n bruisende stad en ek is daar altyd onmiddellik tuis. Ek dink ek kan met goeie reg sê dat ek in Amsterdam opnuut gebore is. Dat dit juis Amsterdam en nie een van die ander beroemde stede van Europa is nie, het baie met die taal te make. Ek praat vlot Nederlands en ’n stad maak jy nie jou eie voordat jy nie die taal van sy mense leer praat en hulle aard leer ken het nie. Amsterdam is die stad van my hart en Nederland is nie my 'tweede land' nie – ek dink nie so hiërargies nie – maar my 'ander land'. (Johann de Lange se blog)

Oor haar liefde vir reis: "Reis is dus vir my ook ’n tuiskoms op verskillende mooi aardse plekke. Teenstellings en paradokse behoort tot die wese van die poësie wat seker ook die rede is waarom die spanning tussen verskillende tuistes ’n sterk kreatiewe stimulus vir my is." (Johann de Lange se blog)

"Die ontstaan van ’n gedig is selde by my ’n spontane vloei van woorde. Dis my gedigte wat ontspring aan visuele waarneming wat ek spontaan en maklik skryf, soos 'Versadiging' (in Sulamiet). My strewe om so konkreet as moontlik te skryf en abstrakte bewering tot die minimum te beperk, kom dikwels neer op ’n taai worsteling met woorde. By die neerskryf van die eerste reël van ’n gedig word ek bewus van ’n plan in my kop waarvolgens ek die gedig struktureer." (LitNet)

Sou mens kon sê die digter as mens en sy of haar teks is onlosmaaklik deel van mekaar? wou Jean Oosthuizen weet: "Die persoonlike aard van my gedigte is al dikwels deur resensente en kritici beklemtoon. Ek ontken nie dat ek oor mense wat ek ken, dig nie, maar daarmee sê ek nie dat ek belydenisverse skryf wat suiwer bewerend is en van metafore afsien nie. (...) By die skryf van gedigte moet jy jou eie stem vind voordat jy jouself met reg ’n digter kan noem. In dié sin is jy as digter onlosmaaklik verbonde aan jou teks, maar jou menswees kan jy nooit ten volle uitsê in jou poësie nie." (LitNet)

"Vertaling is veeleisend, maar tap nie soveel kreatiewe energie as die skryf van ’n gedig nie, omdat die 'vrees vir wit papier' afwesig is: die woorde is al daar; jy moet hulle net in jou eie taal herontdek. In albei gevalle weeg jy dus woorde om jou twee verskillende bedoelings te verwoord. Vertaling verryk inderdaad my eie poësie en is ook ’n opskerping van my woordvaardigheid." (Versindaba)

Oor die toekoms van Afrikaans: "Dit is vir my voor die hand liggend om met liefhebbers van Afrikaans te praat oor die toekoms van die taal en uiteraard is digters die grootste liefhebbers, want watter uitvoerende kunstenaar is daar wat nie sy instrument lief het nie? Daarom praat ek in my verse ook met digters. Hulle is boonop nie so naïef om te glo dat solank ’n taal gepraat word, dit sal oorleef nie. Verdwyn Afrikaans as taal van hoëronderwys sal dit mettertyd ook uit laeronderwys verdwyn en sal die literatuur wat daarin geskryf word langsamerhand kwyn totdat dit saam met die taal ten dode opgeskryf sal staan. Intussen kan ek nie anders as om in Afrikaans te leef en te dig nie en sal ek soos Breyten ’n keer aan my gesê het die lot van Afrikaans solank ek leef singend uit volle bors tegemoet gaan." (Versindaba)

"Ek het nog nooit in my lewe op ’n dag besluit vandag gaan ek nou ’n gedig skryf en voor ’n papier gaan sit en woorde neerskryf nie." (Die Burger, 6 Maart 2019)

Oor die skep van gedigte: "Dis nie ’n bonatuurlike ding nie. Dis iets wat jou aangryp, iets wat jy sien, wat jy hoor, ’n koerantberig wat jou boei. Dit kom op alle maniere na jou. Ek dink in versreëls. Daar kom ’n reël by my op na aanleiding van ’n waarneming of ’n ervaring." (Die Burger, 6 Maart 2019)

Gebore en getoë

Carellina Pieternella (Lina) Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos-Vrystaat gebore. Sy word groot as ’n “eenlingskind” met twee susters: Elmien, ses jaar jonger as sy, en Cornelia, tien jaar jonger. Drie jaar na Lina se geboorte is die gesin vir twee jaar na Stellenbosch, omdat haar pa verder wou gaan studeer. Sy vertel aan Nina Smit: “Ek noem dit altyd ’n ingryp van Bo, omdat my pa se koms na Stellenbosch die beslissendste gebeurtenis in my lewe was, want anders het ek nooit op Stellenbosch kom studeer nie en het ek nooit vir [DJ] Opperman ontmoet nie. Ek voel dit moes so gewees het.”

Sy vertel in Volksblad dat daardie “kinderlewe-sonder-maats ruim vergoed is deur die lewe van fantasie”. Haar pa, Joggie Spies, was hoof van die plaaslike laerskool en ’n groot poësieliefhebber. Hy maak haar groot met EC Pienaar se Digters uit Suid-Afrika, en toe Lina tien was, word haar eerste gediggies in Die Kinderstem, die skoolkoerant van die inspekteursomgang van die Noordoos-Vrystaat, gepubliseer. Lina onthou ook hoe haar pa agter die stuurwiel altyd vir hulle gedigte voorgedra het om die lang pad korter te maak. Haar pa is op 11 April 2000 oorlede.

Lina is baie familievas en het spesiale verhoudings met haar susters se kinders gehad.

Lina se liefde vir musiek en haar sangstem kom van haar ma se kant af. Haar ma, wat in 1992 oorlede is, was meer ’n agtergrondpersoon met ’n meer introverte geaardheid as dié van Lina en haar pa. Haar ma was baie musikaal en het met musiek grootgeword. En Lina het eers na haar dood besef hoe belangrik haar ma vir hulle was.

Uit haar jeug onthou Lina die Kersfeeste op haar ouma Lina en oupa Christiaan de Jager se plaas Leeukop in die Noord-Vrystaat. “Kersfees is vir my mý ouma: die warm breë, ekstroverte vrou wie se naam ek dra en wat ek met middeljarige nostalgie herken as die geluksgodin wat oor my kinderjare geheers het.”

Lina se liefde vir die Vrystaat kom uit hierdie jeugjare, vertel sy aan Johann de Lange, en dit is streekgebonde. "Ek was gelukkig genoeg om op my geboortedorp Harrismith my hele skoolloopbaan te deurloop. My kindertyd en vroeë jeug was dus nie soos wat Sheila Cussons ’n keer aan my gesê het oor haar grootwordjare ’n “nagmerrie van verhuising” nie. Ek gebruik die woorde direk in 'Bereide plekke' (Oorstaanson) wat die sterkste uitdrukking is van my gelukkige jeug. Harrismith aan die voet van Platberg in die Oos-Vrystaat met sy tafelberge en Leeukop, my grootouers aan moederskant se plaas, geleë in die heuwellandskap van die Noord-Vrystaat, was my kinderparadys. Dit bly ’n landskap wat my aangryp, maar ek woon, wat my betref, op die mooiste dorp in die land, Stellenbosch, en ek is verknog aan die Boland. Ek het ’n Kapenaar geword."

Oor haar liefde vir poësie vertel Lina aan De Lange dat dit alles by haar pa begin het. "Dit is ’n liefde wat hy ook aan my twee susters oorgedra het. Hy het gereeld vir ons gedigte voorgelees uit die destydse bloemlesing van EC Pienaar, Digters uit Suid-Afrika. Pienaar het natuurlik by die vroeë Afrikaanse poësie vasgesteek en dus was my eerste kennismaking met die Afrikaanse poësie die werk van die sogenaamde 'Driemanskap', Totius, Celliers en Leipoldt. Veral die oorlogsliriek van Leipoldt en sy natuurpoësie het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Wat baie belangrik was vir my eie ontwaking as poësieliefhebber en sekerlik ook van my digterskap, was dat my pa baie van sy geliefkoosde verse uit sy hoof geken het. As ons op reis was, het hy dit van agter die stuurwiel opgesê. Hierdie voordragte het my hiperbewus gemaak van versritme. My pa se liefde vir die poësie het ook Engelse gedigte ingesluit. Hy het die verhaal van ’n Engelse gedig vertel of die inhoud opgesom en dit dan voorgedra en terwyl ek die meeste woorde nie kon begryp nie, het die ritme en die klank my meegevoer."

Lina matrikuleer in 1957 aan die plaaslike hoërskool op Harrismith.

Verdere studie en werk

Van 1958 tot 1962 studeer Lina aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar MA-graad behaal met ’n skripsie oor “Die bewerende en beeldende vers in die poësie van Elisabeth Eybers”. Sy verwerf haar UOD aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en gee twee jaar lank onderwys aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. In 1966 word sy aangestel as lektrise in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth (UPE, nou NMU), ’n pos wat sy tot 1971 beklee.

Van 1968 tot einde 1970 onderbreek sy haar werk in Port Elizabeth tydelik om met studieverlof na Nederland te gaan, waar sy aan die Vrije Universiteit in Amsterdam vir haar doktorale eksamen in die Nederlandse taal- en letterkunde studeer. In November 1970 lê sy die eksamen suksesvol af met as deel van die eksamen haar skripsie oor “Die religieuse moment in die poësie van Martinus Nijhoff met spesiale verwysing na sy sonnette-siklus Voor dag en dauw”.

Terug in Suid-Afrika aanvaar sy weer in 1971 haar betrekking aan die UPE. Na ’n jaar word sy aan die Universiteit Stellenbosch aangestel as lektrise in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en vanaf Januarie 1982 tot Julie 1983 as senior lektrise. Sy promoveer in April 1982 aan die Universiteit van Pretoria onder AP Grové met haar proefskrif getiteld “Weefsel en web: Heilige beesteNegester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok van DJ Opperman binne die verband van sy oeuvre”. Dit is later onder die titel Kolonnade gepubliseer. Vanaf Julie 1983 is Lina senior lektrise aan die Universiteit van Pretoria en op 1 Januarie 1986 word sy bevorder tot medeprofessor. In Julie 1987 keer sy terug na haar alma mater, waar sy professor is in die Departement Afrikaans en Nederlands tot haar aftrede in 1999.

Lina vertel aan Nina Smit in Die Voorligter van Augustus 1992 dat sy altyd gedroom het dat sy eendag ’n skrywer sou word. “[M]aar dit was eers op Stellenbosch in 1960 toe [ek] met DJ Opperman kennis gemaak het, dat [ek] in alle erns begin skryf het. In my derde jaar het DJ Opperman ons klaskamer binnegestap en my gelei tot in die kamer van my hart. Hy het wete en bewussyn gebring: in my was ’n vreemde kreatiewe impuls waaroor ek nie op eie meriete beskik het nie. Soos nooit voorheen nie het ek daaraan gedink as ’n gawe – ’n gawe wat ’n mens los van jouself kon en moes sien. Opperman het my daarvan bewus gemaak dat ek werklik talent het, maar hy het my ook ’n lang ruk teruggehou van publikasie.”

Sy was ook lid van Opperman se eerste letterkundige laboratorium. Net voordat sy vir die eerste keer Nederland toe is, wou sy publiseer, maar Opperman het haar oorreed om te wag en nog nuwe gedigte te skryf. Met haar terugkeer uit Nederland in 1970 was sy gereed om te publiseer en verskyn Digby Vergenoeg. Opperman het haar gehelp om haar digwerk werklik haar erns te maak en Lina beskou hom as ’n belangrike leidende figuur in haar lewe.

Oor Opperman se invloed op haar lewe brei Lina meer uit teenoor Johann de Lange: "As my pa vir my die vlam van die poësie aangesteek het, dan het Opperman dit laat brand. Dit bly vir my ’n ope vraag of ek werklik in alle erns my aan die digterskap sou gewy het as Opperman nie in my derde studiejaar professor aan die Universiteit van Stellenbosch geword het nie. As professor in die Afrikaanse letterkunde het hy met sy eerste kreatiewe skryfkursus in die derde jaar begin. Dit het al my moed geverg om vir hom twee van my gedigte te gee om in sy eerste 'bloemlesing' uit die werk van derdejaars op te neem; natuurlik anoniem. Dié verse van sy eerste 'Letterkundige Laboratorium' is daardie jaar, 1960, nog in die groot klas bespreek. Van die volgende jaar af is die derdejaars in twee groepe verdeel; diegene wat in taalkunde en diegene wat in letterkunde wou spesialiseer.

"Opperman het egter alle aspirant-digters tot sy Letterkunde Spesiaal-kursus toegelaat saam met die toppresteerders in die letterkunde. Wat ek ten eerste wil noem, is dat Opperman deur sy leiding gesorg het dat die gedigte altyd simpatiek bespreek is. Hy het nooit afbrekende kritiek of persoonlike opmerkings toegelaat nie. Dit is natuurlik ook verhoed deurdat hy vooraf die gedigte gekeur het, wat dan getik en ingebind is in die vorm van ’n 'bundel'. Sy benadering was om eerstens die lewende kern in ’n gedig te soek en dan kon daar kritiese kommentaar gelewer word. Op dié manier het studente ook geleer wat ’n goeie en wat ’n swak vers is.

"Opperman het nooit die gesprekke oorheers nie, maar heeltyd dialoog gestimuleer. Die belangrikste wat ek op menslike vlak oor die poësie van hom geleer het, is om nie te bly steek in die persoonlike nie en om veral te besef dat die liefde en die godsdiens die twee moeilikste onderwerpe is om oor te dig. Hy het veral nadruk gelê op die belangrikheid van ’n digter se sintuiglikheid; dat die digter moet leer om sintuiglik te lewe en hom met iemand anders te vereenselwig; in sy woorde: 'om in iemand anders se vel te kruip'. Ek het langsamerhand begrip gekry van wat hy oor die poësie geglo het en die eerste keer wat ek my met iemand anders vereenselwig het, was met Anne Frank. My gedig 'Vir Anne Frank van Het Achterhuis' was dan ook die eerste gedig van my wat Opperman in sy geheel goed gevind het. Ek glo dan ook vas dat my digterskap in alle erns by daardie vers begin het."

Digby Vergenoeg is die resultaat van tien jaar se werk. Van Lina se gedigte is gereeld in Standpunte en Stiebeuel II gepubliseer. Sy ontvang die Ingrid Jonker-prys vir 1973 en die Eugène Marais-prys vir 1972 vir hierdie eerste bundel van haar. Uys Krige, wat die Ingrid Jonker-prys aan Lina oorhandig het, het die volgende gesê: “’n Digter moet ’n oorspronklike eie stem hê. Maar oorspronklikheid is dikwels ’n gejaagdheid. As jy jouself is, is jy reeds anders – oorspronklik; Lina Spies is in haar gedigte haarself.”

Op haar 80ste verjaardag in 2019 vertel Lina vir AJ Opperman dat Digby vergenoeg vir haar nog altyd een van die sterkste bundels van almal is. "Dit gaan nie by mense verby nie, want hulle bloemlees aanmekaar (die verse) - '’n Paternoster vir Suid-Afrika' en 'Vir Anne Frank van Het Achterhuis'."

Lina vertel aan Nina Smit dat sy in haar eerste skeppingsfase, 1960 tot 1970, baie suiwer was. “Skryf was vir my ’n spontane iets, maar ek het by Opperman geleer om hard aan ’n gedig te werk. Aan sommige gedigte soos ‘Paternoster vir Suid-Afrika’ het ek baie min veranderinge aangebring. Miskien skryf ’n mens die beste gedigte spontaan. Aan ander gedigte het ek baie lank gewerk, byvoorbeeld die gedig oor Rembrandt – ek was verruk oor sy skilderye. Die tyd toe ek in Nederland was, het ek oor hom gedink, na ’n film oor hom gekyk, maar dit het nog steeds nie ’n gedig geword nie. Terug in Suid-Afrika het ek een aand weer ’n film oor Rembrandt gesien. Toe kon ek skielik skryf.”

Daar word na Lina verwys as die “Stellenbosse digteres” en sy beskou die dorp met sy mense as haar grootmenslojaliteit. Maar die Vrystaat sal altyd haar kinderlojaliteit bly. “Daar is geen botsing tussen die twee lojaliteite nie, behalwe dit wat van buite af veronderstel, opgelê en afgedwing word. In my bestaan die twee in harmonie. [...] Die belangrike invloed van Harrismith en die Vrystaat op my menslike en digterlike vorming vind mens terug in die latere beeldewêreld van my poësie.”

"’n Paternoster vir Suid-Afrika" gryp heeltemal terug na haar Vrystaatse kinderwêreld. Ook in Winterhawe (1973) kom die Vrystaatse kind momenteel terug, en in Dagreis (1976), waar sy “die misterie van menswees binne groter dimensies probeer peil ... en probeer deurdring tot die magte wat die mens vorm (die kinderwêreld, familieverhoudinge)”, maak die Vrystaat onwillekeurig weer sy verskyning: byvoorbeeld die dorp van haar jeug, haar ouma, en in die gedig "Verblyf" waar “ek my lewe probeer sien as ’n voorlopig volmaakte geheel: die Vrystaat en die Boland twee sirkelsluitende helftes”.

In 1982 word Lina tot diaken van die NG Gemeente Stellenbosch verkies. In dieselfde jaar ontvang sy ook ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria. Lina dien ook in die kerklike kommissie vir die omdigting van die Psalms.

Lina voel baie sterk oor die bydrae van die vrou tot die poësie en in 1982, tydens die Universiteit Stellenbosch se Herfsskool, vra sy of daar by die beoordeling van die poësie van digteresse, naas die aanlê van algemeen-geldende maatstawwe vir die digkuns, ook spesifieke norme wat met die geslag van die outeur te doen het, in spel kom.

In 1996, tydens die sewende hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging in Bloemfontein, sê Lina: “Die geslag van die digter kan nie in die lees van poësie buite rekening gelaat word nie. Sedert die jare sewentig bestaan wêreldwye belangstelling in die vrouedigter en vroueskrywer. ... Die onderskeiding tussen ‘digters’ en ‘digteresse’ is heeltemal kunsmatig as dit net berus op die geslag van die outeur en geensins verband hou met die inherente eienskappe van hul poësie nie. Vroulikheid en manlikheid behoort tot die verwikkelde en nooit enkelvoudig verklaarbare verhouding tussen die werklikheid van die teks, die lewe en die kuns” (Volksblad, 19 September 1996).

In 1987 word Van sjofar tot sjalom gepubliseer wat redelik vurig gekritiseer word deur onder andere Lucas Malan (“dit is grootliks die dokument van ’n gefrustreerde mens”), Ernst Lindenberg (“dit is aanmatigend”) en Joan Hambidge (“verwys na literêre kitsch en ’n snedige toon”).

Hieroor sê Lina in ’n onderhoud met Romi van der Merwe in Rooi Rose van 11 April 1990: “Ek het die kritiek sedertdien te bowe gekom en die bundel word nou in ’n ander lig beskou. Verlede jaar was ek een van drie finaliste vir die Ou Mutual-prys vir digkuns, danksy Sjofar tot sjalom. Hoewel ek die hele petalje nie weer wil beleef nie, is ek oortuig van die intrinsieke waarde van die gedigte.”

Hierdie bundel verbeeld haar heimwee vanuit Pretoria terug na haar geliefde Stellenbosch en sy maak stellings oor Pretoria wat redelik heftige reaksies uitgelok het. Lina verweer haar deur te sê dat sy nooit “’n persoonlike verbintenis met dié stad gevoel het nie. [...] Pretoria het ’n kunsmatige skoonheid ... ek vind God se hand nêrens nie. [...] Ek kon ook geen eensgesindheid met die wolkekrabbers ondervind nie.” Met haar terugkeer na Stellenbosch in 1987 voel sy vryer en word sy nie meer beperk deur die wêreld wat visueel alles moontlik vir haar gegee het nie.

In 1990, tydens ’n toer na Nederland en Amerika, bedank Lina in die openbaar uit die Afrikaanse Skrywersgilde na aanleiding van die omstrede kultuurboikot. “Ek het met verbystering kennis geneem van die jaarberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde en van die uitsprake van sommige van my geëerde en geliefde medeskrywers. Die pynlike gevolgtrekking wat ’n mens weer eens moet maak, is dat Suid-Afrika hom steeds in so ’n mate van isolasie bevind dat selfs sy skrywers en literatore nóg hul land, nóg hul moedertaal, nóg hul letterkunde in wêreldkonteks sien.”

Sy bring op hierdie toer ook ’n besoek aan Amherst in New England in Amerika waar Emily Dickinson gewoon het. Die digkuns van dié enigmatiese Amerikaanse digteres word vir Lina ’n toenemende passie, en Dickinson se werk gryp haar aan, soos vir talle ander tydgenootlike digters, ook in ander tale. Lina vertel aan Etienne Britz dat sy haar eie konflik in Emily Dickinson herken. Emily het haar ook verset teen die Calvinisme wat die “mens onderskat en onteer”.

Lina se liefde vir die Amerikaanse poësie dateer van voor haar eerste bundel in 1971 toe sy bekend geraak het met die werk van Robert Frost, en sedert die publikasie van Dagreis in 1976 toon sy veral belangstelling in Amerikaanse digteresse soos Sylvia Plath, Anne Sexton en Erica Jong. Die neerslag van hierdie belangstelling kan duidelik in haar vierde bundel, Oorstaanson,gesien word.

In 1992, vyf jaar na Van sjofar na sjalom, word Hiermaals gepubliseer. Lina dra hierdie bundel aan die filosoof Johan Degenaar op. Sy vertel in De Kat van Augustus 1992 aan Etienne Britz dat “[n]iemand my in lewensbeskoulike opsig so sterk beïnvloed [het] as Johan Degenaar, die ‘filosoof van die hiermaals’, nie. Ek het drie jaar in sy klas op Stellenbosch gesit. Op ’n oggend lees hy uit GK Chesterton se Orthodoxy. ‘God sê elke oggend vir die son om op te kom. God word nooit moeg om vir die son te sê om op te kom nie. Omdat God nie gesondig het nie, is God jonger as ons.’ Dié aanhaling het my geprikkel om Orthodoxy aan te skaf. My eie geloofsoortuiging sit baie vaster aan Orthodoxy as aan die Calvinisme. Aan Johan Degenaar het ek miskien my hele lewensuitkyk in Hiermaals te danke.”

Lina se volgende bundel, Die skaduwee van die son, word in 1998 gepubliseer. Oor hierdie bundel skryf HJ Pieterse in Beeld van 11 Januarie 1999 dat “[w]at wel nuwer en protesterend skerper is, is die elegiese toon, die sterkerwordende besef van verganklikheid en afskeid, wat reeds deur die bundeltitel aangekondig word. [...] Uiteindelik bly die elegiese toonaard en die uiters empatiese behandeling van temas, geskryf in ’n fyn digtershand, ’n mens by en lewer die bundel, saam met Hiermaals, genoegsame bewys dat daar inderdaad lewe ná Van sjofar tot sjalom is.”

In 2004 word Lina se agtste bundel, Duskant die einders, uitgegee. Fanie Olivier sê van hierdie bundel dat dit “’n ryp, beleë versameling gedigte [is] wat ’n belangrike toevoeging is tot die oeuvre van Lina Spies en die gesprek oor ons menswees, wat alle beduidende letterkunde kenmerk, verder stimuleer.”

Volgens Bernard Odendaal in Volksblad van 14 Julie 2004 “versterk [hierdie bundel] Spies se profiel as unieke, nie-modieuse digter. [...] Hare is ’n dadelik herkenbare digterskap wat agting afdwing.”

Vir Henning Snyman is die bundel “ietwat van ’n raaisel. Enersyds is daar bedrewe en gevoelige verse wat talle lesers groot leesgenot sal bied. Andersyds is daar te veel voorbeelde van cliché’s en ’n steriele gestileerdheid.”

Lina is bekend vir haar liefde vir katte en sy skryf gereeld gedigte oor katte. Sy het nie probleme met die feit dat mense na haar verwys as die katdigteres nie. Sy vertel aan Suzette Truter dat sy haar, wat dit betref, in die geselskap van die heel grotes bevind – TS Eliot, Baudelaire en Rilke, wat almal oor katte geskryf het.

Lina voel ’n spesiale geneentheid teenoor Nederland en die Nederlandse letterkunde. Haar ouma aan moederskant was van Nederlandse afkoms en sy het ’n onderwyser gehad wat versot was op die Nederlandse boek. “Toe ek my studie aan die Vrije Universiteit in Amsterdam voortgesit het, het ek baie gou aangepas en tuis gevoel. Nou nog, as ek soontoe gaan, is ek binne ’n week weer volkome tuis. Dis soos ’n tweede vaderland, ek sou môre daar gaan woon.”

Naas letterkunde is Lina se ander liefdes musiek en reis. “Ek sou glad nie sonder musiek kan wees nie,” vertel sy aan Suzette Truter. “Klassieke musiek is die mooiste iets op aarde. Ek het my doktorale proefskrif geskryf met musiek op die agtergrond. Maar dit moet instrumentele musiek wees, soos ’n simfonie van Mozart. Om na sang te luister neem al my aandag in beslag; ek kan dan nie op werk konsentreer nie.”

Oor geloof vertel Lina aan Nina Smit in Die Voorligter van Augustus 1993: “Geloof is seer sekerlik nie van emosie afhanklik nie. My hele lewe word nog altyd deurstraal deur my geloof. Ons kan nie net vir hierdie lewe op Christus hoop nie. Ek word gemotiveer deur die gedurige besef dat ek moet probeer beantwoord aan ’n groter doel – dat dit wat ek op my klein manier doen, êrens dalk sin het binne ’n groter bestel van dinge. Met ander woorde as ek klas gee, gee ek goed klas omdat ek ten diepste gemotiveer word deur die doel dat ek dit goed doen vir God. Ek is elke dag in sy diens. Ek wil dié dinge wat ek doen, góéd doen omdat ek dit wil doen tot eer van God.”

Lina vertel aan Tobie Wiese (Insig, Desember 2003) dat sy nie kan onthou wanneer sy laas in die kerk was nie. Sy kan dit nie langer regkry om saam met die res van die gemeente daar te staan en die eeue oue woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis na te sê nie. Sy kan nie, want sy glo dit nie meer nie. “Ek het ’n nuwe ervaring van Jesus, van sy menslikheid. Hy is nie vir my God nie. Hy is wel ’n gesig van God, dié gesig wat ek die beste ken, maar nie die enigste gesig nie. Hy het ook nooit gesê Hy is die Seun van God nie. Ja, die belydenisgeskrifte sê so en die dogmamakers sê so en die Skrifgeleerdes wat Hom voor Pilatus gedaag het, het Hom daarvan beskuldig, maar Hy het nie daarop aanspraak gemaak nie. Ek kan Jesus wat op aarde gewandel en gewerk en gesterf het, nie vereenselwig met die ewige, onsienlike en alomteenwoordige God nie. Dit is waar my breuk met die tradisionele godsdiens kom. [...] Soos Van Gogh gesê het: ‘Ik ben een gelovige in mijn ongelovigheid.’ Ons weet dat ons nie weet nie. Wat my irriteer van die kerk, is die aandrang op sekerheid. Hoe kan jy seker wees van die Onsienlike? En as jy seker is van alles, het jy geen geloof nodig nie. Geloof berus juis op nie-weet, op hoop, op vertroue, op onsekerheid. Daarom is geloof ’n sprong in die duisternis.”

Lina se kritiek op die kerk terwyl sy aktief was in die nuwe berymings van psalms vir die nuwe liedboek van die kerk is nie vir haar ’n teenstrydigheid nie. Sy vertel op 11 April 2004 aan Rapport: “Juis my werk saam met die psalmkommissie het sekere dinge vir my duidelik gemaak. Ek het dinge ontdek wat geskud het aan my godsdienstige wêreldbeskouing. Ek het agtergekom ek kan niks doen met die gesange nie, dat dit die psalms is wat praat oor God soos ek oor God wil praat. Ek voel my tuis in ’n Ou Testamentiese wêreld. Daarom pla dit my dat die kerk deesdae so ’n eensydige fokus op die Nuwe Testament plaas. Die klem is volledig op die persoon van Jesus en op dié wyse sentreer Christene se godsdiensbelewing om ’n vermenslikte God wat in alle kleinmenslike behoeftes voorsien.”

Lina is ’n vurige voorstander van Afrikaans en Afrikanerskap. In 1996 spreek sy haar soos volg in ’n artikel in Die Burger van 29 April uit: “Die fout wat die Afrikaner vir die soveelste keer in sy geskiedenis begaan, is om homself, sy kultuur en sy taal in ’n eksakte definisie te probeer vasvang. Hierdie unieke Afrikaner-eienskap is verstaanbaar omdat die Afrikaner nog nooit in hierdie land ’n blywende rusplek vir die holte van sy voet kon vind nie: soos in die verlede word sy bestaan nou weer bedreig. Om egter ’n bepaalde volksaard en ’n eie kultuur te probeer definieer, is noodlottig omdat dit verskynsels is wat hulle nie laat definieer nie.”

By die Versindaba in 2007 lewer Lina die Dana Mouton-gedenklesing, getitel “Wat is poësie?”. In 2011 word sy gevra om die DJ Opperman-gedenklesing te lewer met die titel “God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van DJ Opperman”. Die Woordfees het Lina in 2014 met ’n profielaanbieding vereer.

Lina se eerste volwaardige gedig (en die eerste gedig van haar wat DJ Opperman volgens haar sonder meer goed gevind het) was “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” wat in die tydskrif Inset verskyn het en waarmee sy ’n belangstelling in die geskiedenis van die Jodevervolging in die Tweede Wêreldoorlog toon – ’n belangstelling wat uiteindelik uitloop op Die agterhuis: dagboekbriewe 12 Junie 1942 – 1 Augustus 1944 (Protea Boekhuis, 2008), haar vertaling van Anne Frank se boek.

In ’n onderhoud met Gerrit Brand vertel Lina dat dit belangrik vir haar was om die boek in Afrikaans te vertaal, omdat dit in 60 tale vertaal is en “dit ’n soort status aan Afrikaans gee dat dit nou ook in die taal wat die naaste is aan die taal waarin Anne dit geskryf het, vertaal is”.

Lina sê in ’n lesing oor hierdie vertaling dat dit in samehang met haar uitvoerige inleiding hopelik kan bydra tot ’n bestryding van die onkunde oor die dagboek self, maar veral ook oor die skryfster daarvan. “Die een is onlosmaaklik verbonde aan die ander. Vir my was die vertaling van Anne Frank se dagboek die vervulling van ’n lewensideaal. Uiteindelik kan die Afrikaanse vertaling staan naas die tallose vertalings waarin die dagboek verskyn het sedert die eerste publikasie daarvan in 1947 in die oorspronklike Nederlands onder die titel Het Achterhuis.”

Lina vertel dat ’n uitspraak oor Anne se droom om skryfster te word, deur die beheer oor haar emosies wat sy tydens die vertaling streng gehandhaaf het, gebreek het. Op 21 April 1944 skryf Anne naamlik aan Kittie: “Ek wil een van my sprokies na De Prins stuur, natuurlik onder ’n skuilnaam, maar omdat my sprokies tot nog toe te lank is, dink ek nie dat ek veel kans het dat hulle dit sal publiseer nie.”

Lina vertel: “Die tragedie van Anne Frank het nêrens sterker tot my gespreek as uit hierdie voorneme om een van haar sprokies uit die boek waarin sy, benewens die hou van ’n dagboek, verhale, gebeure uit die Agterhuis en sprokies geskryf het, vir publikasie voor te lê nie. Wat dit by my tuisgebring het, was dat Anne Frank ’n gewone meisie was, weliswaar ’n meisie wat haar ideaal om skryfster te word nie kon verwesenlik nie, omdat sy moes sterf net omdat sy Joods was. Dit is die tragiese. En dit was die een oomblik tydens my vertaling soos ’n oomblik op ’n koue grys dag in November 1968 in Anne Frank se kamer wat ek beleef het as hartverskeurend; ’n oomblik wat ek onlangs herbeleef het in Paul Auster se beskrywing daarvan in sy ‘The book of memory’ (deel 2 van The invention of solitude): ‘As he stood in Anne Frank’s room, the room in which the diary was written, now bare, with the faded pictures of Hollywood movie stars she had collected, still pasted to the walls, he suddenly found himself crying. Not sobbing, as might happen in response to a deep inner pain, but crying without sound, the tears streaming down his cheeks, as if purely in response to the world.’”

Volgens Lina is die groot tema van Anne se dagboek die leegte, en by haar is dit dubbel erg deur die afsondering. “Sy’t die leegte volgeskryf. Dis geen bakvissie-Nederlands wat jy lees nie. Die ontstellende is dat ’n gewone meisie met talent dít moet belewe. En dat sy leef deurdat sy gesterf het. En die onvoltooidheid van haar dagboek.”

In sy resensie van Die agterhuis skryf Stoffel Cilliers in Volksblad: “Dit is aan Lina Spies te danke dat ’n vertaling van hierdie klassieke werk ná al die jare nou in besonder keurige Afrikaans beskikbaar is. Iets van Anne Frank se voortdurende optimisme, haar lewensblyheid, haar verdraagsaamheid in die slegste omstandighede bly die leser lank by. Daarom verdien hierdie dagboek om deur lesers van alle ouderdomme in Afrikaans ontdek – of herontdek – te word.”

In 2010 doen Johann de Lange ’n samestelling uit Lina Spies se agt bundels. Dit word gepubliseer onder die titel Die skyn van tuiskoms.

Oor die ontstaan van die bundel en die eindresultaat vertel Lina Spies aan Johann de Lange dat sy baie dankbaar is oor die publikasie van hierdie keur uit haar werk. Sy sou nie dieselfde verse gekies het nie, maar sy was aangenaam verras met De Lange se keuse. "So ver as wat ek gelees het, het ek gedig vir gedig jou keuse hartlik beaam. Ook met jou teks op die agterblad waarin jy my werk karakteriseer, kan ek nie anders as my volle instemming betuig nie. Tweedens en nie minder belangrik nie, is ek diep dankbaar oor hierdie erkenning deur Human & Rousseau. Ek is ook besondere dank aan Alida Potgieter verskuldig met wie ek en jy nou saamgewerk het. Wat kan ’n mens sê oor ’n digterskap van veertig jaar, behalwe dat jy dankbaar is dat jy oor so ’n lang periode kon aanhou skryf? Om jou uit te leef oor soveel jare heen in die kunsvorm wat jy beoefen, is ’n buitengewone voorreg."

De Lange sê hy kan Lina Spies nie as ’n godsdienstige digter tipeer nie, hoewel godsdiens ’n belangrike aspek van haar digkuns is. Hy het haar gevra om vir hom die verband tussen godsdiens en kuns te verduidelik en ook hoe haar siening oor die godsdiens deur die jare verander het. "Ek is baie bly dat jy my nie ’n 'religieuse digter' noem nie; allermins wil ek ’n 'Christelike digter' genoem word. Die redes lê voor die hand. Ons het in Afrikaans te veel skryfsters (vroueskrywers) wat met ’n vooropgestelde Christelike doelstelling skryf. My gedigte het meermale ’n religieuse ervaring as tema of impuls, maar dit word nooit met ’n evangeliese oogmerk soos om die 'blye boodskap' te verkondig of om 'van Jesus te getuig' geskryf nie.

"Daar is ’n dun membraan tussen die poëtiese en die religieuse. Om eenvoudig te verduidelik wat ek daarmee bedoel: Ons kan slegs in metafore oor God praat, want God is transendent. Omdat die poësie, tensy dit in alledaagsheid verval, altyd iets van die transendente verwesenlik omdat dit die onsêbare probeer sê, kan ek nooit ’n ateïs wees nie. My godsdiens-ervaring het deur die jare radikaal verander. Ek het baie werke van vooraanstaande teoloë wat geen tradisionaliste is nie, gelees. John Shelby Spong, ’n Episkopaalse Amerikaanse biskop, het naas Karen Armstrong – om my maar by twee te hou – my denke verander. Spong sê dat die Christelike kerk uiteenval in 'literalists' en 'dropouts'. Diegene wat nie meer die Bybel letterlik kan lees nie – waaronder ek my bevind – word meesal 'dropouts', met ander woorde ateïste, maar dit is nie die enigste alternatief nie. ’n Mens kan die Bybel ook anders lees en anders glo. Ek is ’n Bybelsgevormde mens en digter. Ek kan die Bybel nooit prysgee nie. Ek wil dit daarby laat. Hoe anders ek begin glo het, sal wel uit van my jongste verse blyk wat hopelik in ’n volgende bundel sal verskyn."

Ses jaar ná die verskyning van Duskant die einders sien Lina Spies se volgende boek, Tydelose gety, die lig.

Op haar blogspot skryf Joan Hambidge dat die titel, Tydelose gety, op sowel “tydelik” as “tydloos” inspeel, die hier én die ewige. Hierdie spanning is te bespeur in feitlik al Spies se bundels, maar spesifiek in Hiermaals, waar die gesprek tussen die aardse en die Ewige bestaan ’n digterlike onderwerp word.

"Spies spreek in hierdie bundel die toestand of aard van die ouer persoon aan. Die vrou sonder masker en in hierdie opsig tree sy in gesprek met twee ander vrouedigters wat hierdie onderwerpe behandel: Elisabeth Eybers en Antjie Krog. By Eybers is daar die vormvastheid wat bekoor; by Krog die woede en kompromislose siening van die lyflike ontglansing. (...)

"Die eiesoortige praatvers wat sy skryf, is in hierdie bundel nie altyd ewe suksesvol nie. Vir my gevoel is die verse dikwels spanningsloos en die opdrag en uitdaging aan die leser in die programvers word nie orals nagekom nie. ’n Vers soos 'Gewoon' (19) en sy inspelings op Eleanor Farjeon se geestelike lied, wat deur Cat Stevens gepopulariseer is, klink flets op.

"Daar is gesprekke met Emily Dickinson en Philip Larkin – selfs ’n herdigting van Maya Angelou. Die gevaar is immer dat die oervers kragtiger mag opklink vir sommige lesers.

"Vir Lina Spies-bewonderaars is die bekende temas (liefde, godsdiens, vrouwees, ouerword, die dood) daar en getroue volgelinge sal steeds iets put uit hierdie bundel."

Bernard Odendaal is die resensent van Tydelose gety op Versindaba. Die meeste van die gedigte in die eerste afdeling, skryf hy, het hulle ontstaan te danke aan ’n (onverwagte) liefdeservaring in die lewe van die ongetroud vrou in haar sewentigerjare. Hy skryf verder: "Sy vrees, luidens die bundelopeningsgedig, dat dit 'in hierdie halfwas land […] bejammerenswaardig' geag word 'om na dertig ongetroud te wees/ en ondenkbaar om na sestig verlief te raak'. Die spreekster se belewing van laasgenoemde toedrag van sake is klaarblyklik eg, en dit bring ’n skrynendheid in die treffendste gedigte in die bundel teweeg. 'Voorjaarsversoek', 'Skyn', 'Heelal', 'Moment', 'Gewoon' en dalk ’n paar ander uit hierdie afdeling gryp ’n mens aan. (...)

"In die res van die bundel is dit egter juis die geykte, die retoriese wat in die pad van egte inlewing deur die leser kom staan – of dit nou die idealisties-behoudende blik op familiale, stamverwante herkomste en op die verbondenheid aan land en taal van die tweede afdeling betref, of die huldigings van vereerdes van die derde afdeling, of die religieus getinte bemoeiing met leerstellighede en met uiterste beproewings van die slotafdeling.

"Geykte uitdrukkings – wat enersyds styltamheid tot gevolg het, andersyds, net soos die apostrofiese aansprekings van en/of opdragte aan afwesige of gestorwe beroemdes, pralerig aandoen – deurspek die grootste deel van die bundel. (...)

"Maar die hoofsaaklike onbesieldheid waarmee die retoriese grepe en wendings op mekaar gestapel word in groot dele van Tydelose gety, werk fnuikend. Selfs die verwoordings van uiterste menslike lyding in die slotafdeling word hierdeur ontkrag – júis opmerklik gemaak deur die trefkrag van die enkele uit Duits vertaalde gedigte van Paul Celan en Pavel Friedmann wat in dieselfde afdeling naas Spies se eie staan. Dis dan besonder ironies – en jammer – dat sy haar in dié poging so ryklik gaan bedien het van die bombas."

In Literator (Augustus 2011) sluit HP van Coller sy bespreking van Tydelose gety so af: "Spies het ’n voorkeur vir die gedrae toonaard en die formele register wat soms in swaarwigtigheid kan verval. Wat my egter sal bybly van Tydelose gety, is die wyse waarmee die laat liefde en erotiese gevoelens hier onder woorde gebring word. Die Afrikaanse poësieleser is al gewoond aan geriatriese temas by ouerwordende digters; selde egter aan gerontiese gedigte waarin daar nog die sprankel van die jeugdige liefdeservaring is."

Ses jaar ná die publikasie van Tydelose gety word Spies se volgende bundel, Sulamiet,deur Naledi Uitgewers uitgegee. Dit is haar tiende digbundel en op LitNet verduidelik sy in ’n onderhoud aan Jean Oosthuizen dat sy by DJ Opperman die kuns geleer het om te wag totdat sy in die gedigte wat sy geskryf het, ’n bundel kon "herken". Sy meen dit is die rede hoekom daar tussen die verskyning van haar bundels gewoonlik etlike jare verloop.

Sy vertel aan Oosthuizen dat al die gedigte in Sulamiet "baie kreatiewe energie en harde werk geverg het, daarom glo ek dat dit die peil van die beste gedigte in my oeuvre ewenaar. Die ontvangs van die manuskrip deur Naledi en die wyse waarop die kritiese beoordeling en tegniese versorging van die teks verloop het, was ’n inspirasie en het aan al die verwagtings wat ek van ’n uitgewer koester, voldoen: geesdrif gepaard met ’n oorwoë kritiese sin."

Die betekenis van die titel sal volgens haar dalk nie vir almal duidelik wees nie, "maar ek veronderstel dat dit ten minste as ’n persoonsnaam herken kan word en dat dit ’n prikkel sal wees vir lesers om die betekenis binne bundelverband te agterhaal. Diegene wat vertroud is met die Ou Testament, sal die titel egter uit Hooglied herken en die verwysing na Hooglied 1:2 by die titelgedig, 'Belydenis van ’n Sulamiet', sal minder kundige lesers na die betekenis lei: 'Laat hy my kus met kusse van sy mond …" (...)

"Salomo en Sulamiet is metafore vir ’n man en ’n meisie se belydenis van hulle liefde vir mekaar waarin die meisie deurgaans die botoon voer. Die liefdesbelydenis het ’n sterk polemiese strekking deurdat die Sulamitiese meisie haar voorkoms en haar smagting na haar beminde se liefkosings verdedig teen haar broers en die meisies van Jerusalem.

"’n Polemiese strekking kenmerk ook die belydenis van die Sulamiet as spreker binne die Afrikaanse kulturele konteks van my gedig: Sy lewer ’n pleidooi vir die opheffing van die taboe op fisieke aanraking; ons Noord-Europese Protestantse erfenis in ’n sonnige, suidelike klimaat, ooreenkomstig aan die klimaat van Katolieke Suid-Europa, waar dié taboe nie geld nie.

"Aan die grond van dié pleidooi lê haar verset teen ’n ouer generasie se gewoonte om te soengroet en dan op ’n kil, afstandelike manier sonder enige fisieke aanraking."

Die uitgewers het in hulle inligtingstuk van Sulamiet die bundel beskryf as een oor "medemenslikheid, liefde, die wisseling van seisoen, die skoonheid van die natuur en ook die kunste". Lina som die onderliggende tema van die bundel as volg op: "Bogenoemde dinge kan as alledaags en algemeen by ons verbygaan, maar kan by ’n digter momente van verskerpte bewussyn word om tot nuwe lewe te wek in die gedig. Dié motiewe kan mens saam skaar onder een oorkoepelende tema: ons onlosmaaklike verbondenheid aan die lewe en die aarde.

"Dié tema het die eerste keer pertinent tot uitdrukking gekom in my sesde bundel, Hiermaals (1992). As antoniem van hiernamaals ontgin ek met ander aksente opnuut die “hiermaals” in my nuwe bundel as die gerigtheid op hierdie lewe in plaas van op die lewe hierna. (...) ’n Mens is in jou laaste lewensfase meer as ooit bewus van die behoudende krag van die liefde, omdat niemand op die lange duur verlies deur dood en vervreemding gespaar bly nie. By dié bewussyn is my skeppende skrywe steeds gerig op die herskepping van die verlore tuin van Eden deur die liefde, soos in Hooglied. Dit is die oorkoepelende tema van Sulamiet." (LitNet)

In Beeld (16 Januarie 2017) skryf Tom Gouws: "Spies gebruik hierdie simboliese vrouefiguur [Sulamiet] 'op die ongekaarte reis van liefhê', maar ook as fokusfiguur van die Joodse buitestanderskap." Hy skryf voorts dat hoewel Lina Spies in 1962 haar MA-verhandeling getiteld “Die bewerende en beeldende vers in die poësie van Elisabeth Eybers”geskryf het, sy die "bewerende deel in haar eie digkuns nog nie self bemeester [het] nie. Maar, haar beeldende vermoë bly sporadies die leser verruk.

"Kritici het oor ’n vorige bundel genoem van die gedrae toonaard en die formele register wat soms in swaarwigtigheid kan verval – híér dra dit by tot ’n ou-wêreldsheid, wat my steeds bekoor. Ongelukkig is steeds 'te vee, van my verse/ ... pleisters op eie wonde’, maar tog is dit deel van die intieme tongval van Lina Spies se idiolek

Daniel Hugo is die resensent van Sulamiet in Rapport van 19 Februarie 2017. Hugo sien Lina Spies as ’n digter wat sienings het oor onderwerpe wat later deel van haar digterlike raamwerk geword het – onderwerpe soos "die onbetroubaarheid van die liefde tussen mense, in teenstelling tot die vertroostende teenwoordigheid van katte; die ware geloof versus kerklike dogma; Judaïsme versus Christendom; haar dubbele lojaliteit aan Suid-Afrika en die Lae Lande, en daarmee saam aan Afrikaans en Nederlands; haar afkeer van onreg, veral teenoor kinders; haar liefde vir die Bolandse natuur; haar stryd om die dood te aanvaar, en haar koestering van die 'hiermaals' in teenstelling tot die hiernamaals."

Hierdie temas is, behalwe die katte, weer te vinde in Sulamiet, en soos altyd maak sy geen geheim daarvan wat haar menings omtrent die temas is nie.

Hugo sluit af: "Die digter identifiseer haar in hierdie bundel dus op ’n paradoksale manier met sowel die donker Sulamiet, die geliefde, as met die blonde Margarete, die skuldbewuste Christen. Anders as Blum en Auden glo ek wel dat ’n digter opinies mag hê en volgens ’n plan mag werk. Dit hang net af van hoe subtiel en oortuigend hy dit hanteer. Lina Spies is as ambagsvrou vaardig genoeg om die leser nog steeds te kan meevoer en verras."

Jean Oosthuizen wou by Lina weet of sy dit moeilik vind om te dig en of deursettingsvermoë ’n rol te speel het wanneer sy dig. Haar antwoord hierop was: "Om ’n talent te hê, is ’n kosbare besit, en om dit te ontwikkel en te beoefen, bring vir die ontvanger ’n besondere bevrediging mee, veral as die erkenning nie uitbly nie. Ek dink nooit aan my skrywe van gedigte as 'moeilik' nie. Dit sou egter vir my ongeveer alle sin verloor as my gedigte nie gelees word nie. Geen digter skryf vir homself nie. Die Amerikaanse digteres Emily Dickinson kon in haar leeftyd van 56 jaar net tien gedigte gepubliseer kry. Met ’n vaste geloof in haar talent het sy aanhou skryf met die oog op nadoodse roem, en vandag is sy wêreldberoemd met ’n oeuvre van ongeveer 1 700 gedigte. Talent vra om deursettingsvermoë en harde werk."

Oor hoe sy voel oor die ontvangs van ’n nuwe bundel en die kritiek wat daarop kan volg, is Lina heel filosofies: "’n Digter het seer seker oomblikke van angs oor die verwydering en misverstand wat jy kan skep tussen jou en die mense wat die naaste aan jou is deur wat jy skryf aan die openbare oog prys te gee. Die vrees het ek beslis ervaar met die publikasie van Sulamiet, maar op die ou end vertrou ek maar weer op die poësie om weer eens die 'vreemde, vertroude ompad en kortpad' te wees tussen my en diegene wat die naaste aan my is." (LitNet)

Joan Hambidge skryf oor Sulamiet: "Vir my is die korter, meer gedronge verse geslaagder. Die gespreksverse, intiem in hul aanspreek van ’n onderwerp of persoon, loop dikwels hier die gevaar om te wydlopig of woordryk te raak – soos die vers oor Randall Wicomb. Dit is uiteindelik waarskynlik ’n kwessie van smaak. (...)

“Spies is ’n polemiese persoon én digter: sy neem standpunt in teen rasdiskriminasie, die ontkenning van taalregte, religieuse engheid. Sy is in eie reg feministies ingestel oor die lot van die enkelvrou – 'huidhonger' of body loneliness word eerlik beskryf.

"Dit is ’n bundel met ’n ryke tematiek waarin ’n magdom van onderwerpe aan bod kom. Daar is dus iets vir verskillende lesers opgesluit in hierdie bundel." (Woorde wat weeg)

Met haar 80ste verjaardag op 6 Maart 2019 gesels AJ Opperman met Lina Spies (Die Burger, 6 Maart 2019) en sê sy vir Opperman dat dit vir haar baie frustrerend is dat daar na haar poësie verwys word as baie persoonlik, "want", sê sy, "persoonlike verse kom tog in enige vrouedigter se werk voor. Jy kry temas by hulle almal wat by die belydenisvers skakel. Met hul kinders, in my geval waar ek nie kinders het nie, die huishouding. En tog is al my bekendste verse, wat my ’n plek in die Afrikaanse literêre tradisie gegee het, persoonlik."

Publikasies:

Publikasie

Digby Vergenoeg

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1978

ISBN

079810645X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 1972
  • Ingrid Jonker-prys 1973

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Winterhawe

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1976

ISBN

0798103302 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dagreis

Publikasiedatum

1976

ISBN

0798106999 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ontmoetings

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624012670 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oorstaanson

Publikasiedatum

1982

ISBN

079811455X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Van sjofar tot sjalom

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798121580 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hiermaals

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129298 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kolonnade: ’n studie van DJ Opperman se bundels Heilige beeste, Negester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok binne verband van sy oeuvre

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129751 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Tesis (literêre kritiek)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson

Publikasiedatum

1995

ISBN

01874901333 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die skaduwee van die son

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138661 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duskant die einders

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798144068 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die skyn van tuiskoms: ’n keur uit haar gedigte. Saamgestel deur Johann de Lange

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151443

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tydelose gety

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781869193836 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sulamiet

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780928316476 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 Lina Spies as samesteller

Lina Spies as vertaler

 

Artikels deur Lina Spies beskikbaar op die internet

Artikels oor Lina Spies beskikbaar op die internet

 

Besprekings van individuele gedigte deur Lina Spies

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Lina Spies (1939– ) appeared first on LitNet.

Eben Venter (1954–)

$
0
0

Gebore en getoë

Ebenhaezer Venter is op 29 September 1954 in die distrik Burgersdorp gebore waar sy pa, Willem-Frederik, ’n skaapboer op die plaas Die Vlei was. Hy erf sy oupa se naam wat in Hebreeus “klip van hulp” beteken.

Eben se liefde en aanvoeling vir woorde het sy oorsprong op Grey Kollege in Bloemfontein gehad en dit is daar waar hy ook begin het om notas te maak, vertel hy aan Johan Myburg: “Ek was gelukkig om Charles Malan as onderwyser te hê. Hy was ’n begeesterde taalonderwyser en mentor. Dit was die 1970’s. En hy het my belangstelling in die letterkunde aangemoedig. Die Sestigers. Breyten en Leroux. Ek onthou hoe Leroux met sy wit Mercedes-Benz en sy donkerbril by die skool opgedaag het. So anders as die ander pa’s.”

Eben se eerste gepubliseerde werk het in Grey Kollege se jaarblad verskyn: ’n kort stukkie oor ’n donkie. In ’n onderhoud op The Wheeler Centre vertel hy dat hy dit vandag nog kan sien: "... in the middle of the page among the other stories. It contained an element of absurdity, just slightly so, of which I was proud. I thought that set it apart from the others."

Hy behaal sy matriek aan Grey Kollege.

Die oorsprong vir sy latere skryfwerk het sy beslag nog vroeër gehad. Sy pa en ander van sy voorgeslagte was baie goeie storievertellers: “Dis ’n Venter-tradisie, die kleurvolle, sensuele manier van oorvertel,” sê Eben.

Eben vertel later aan Wilhelm Grütter (Die Burger, 13 Augustus 1993) dat dit ’n goeie ding was dat televisie Suid-Afrika op so ’n redelik laat stadium bereik het. “Ek sal nooit kleintyd in die winter vergeet nie. As ons nie saans radio geluister het nie, Die Du Plooys van Soetmelksvlei en so, dan was dit Jakkals en Wolf, of sommer stories wat ons self opgemaak het. Dit was maar net hoe dit gehoort het, want my pa was ’n goeie verteller, wat die sonderlinge van ’n ervaring so kon raakvat. Byvoorbeeld die dag toe hulle vir die eerste maal in hulle lewe ’n motorkar gesien het, vertel hy, het hulle agterna aan die wielspore gaan ruik.”

Verdere studie en werk

Na skool is Eben na die lugmag vir sy weermagdiens en is hy ook betrokke by die weermag se aksies in Angola. Hy gaan na die Potchefstroomse Universiteit (nou NWU), waar hy in die teologie studeer. Op die ou end het hy met filosofie voortgegaan en “’n kritiese model is by my tuisgebring, iets wat my gehelp het om afstand te kry van plaaslike en persoonlike probleme,” vertel hy aan Wilhelm Grütter.

Hy verwerf uiteindelik sy BA Honneursgraad aan RAU (nou UJ) en sy MA in filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth (nou NMMU). Hy swerf vir ’n jaar oorsee en verhuis na Johannesburg, waar hy as joernalis en kopieskrywer werk.

Oor Eben se eerste bundel politieke kortverhale, Witblitz (Taurus 1986), skryf EC Britz in Die Burger (19 Februarie 1987): “In die ‘Plakboek’ teen die slot van dié verhalebundel haal Eben Venter ene Tracy Faure aan (Reader’s Digest, Kaapstad, September 1985): ‘Violence (...) penetrates my psyche (...) violent images re-echo in my dreams.’ Dié aanhaling sou as motto kon dien van ’n bundel waarin die politieke geweld in Suid-Afrika telkens weerklank vind. Die verhale handel oorwegend oor die traumatiese – en soms stimulerende – uitwerking van die geweld in ons samelewing op wit mense sowel as swart mense. Die vertellings het ’n anti-estetiese karakter. Verfynde en afgeronde kunswerke met ’n verhewe strekking moet ’n mens hier nie verwag nie. Die karakters, die vertelstyl en die taalgebruik is rou, selfs kru. Eben Venter spot enersyds met blankes wie se onverdiende voorregte en onmenslikheid uit die huidige bestel in Suid-Afrika voortvloei. Andersyds soek hy gemene grond tussen eenvoudige, aardse (en soms doodeenvoudig ruwe) Afrikaners en die swartes wat na bevryding streef.

“Terwyl die hortende vertelgang en die ordinêre of kras woordgebruik met die anti-estetiese inslag van die verhale saamhang, maak Venter hom soms aan doodgewone lomphede skuldig. Dit is byvoorbeeld moeilik om ’n mens ’n geluid ‘soos (van) ’n padda wat glasalbasters in sy keel rondrol’ voor te stel. ’n Teks hoef nie ‘mooi’ van inhoud of styl te wees om goed te wees nie, maar dit moet wel goed geskryf wees. Venter kan sy werk verbeter deur hier en daar te skaaf en te poleer, net soos die estetiese skrywers van ouds dit so sorgvuldig moes doen.”

In 1986, net na die verskyning van Witblitz, het Eben gevoel dat hy Suid-Afrika, wat in ’n noodtoestand verkeer het, en ook as gevolg van die algemene politieke milieu, moet verlaat. Hy volg sy ouer broer, wat toe met Clarabelle van Niekerk, die sangeres, getroud was, en emigreer na Australië. Hy vestig hom in Sydney, waar sy broer ’n restaurant gehad het, en was skottelgoed daar. Later verhuis hy na Melbourne, waar hy ’n vennoot word in Wild Rice, ’n restaurant wat hom veral toespits op die bediening van mikrobiotiese voedsel.

Ná ’n publikasiestilte van sewe jaar word Foxtrot van die vleiseters in 1993 deur Queillerie uitgegee. Voor die publikasie van die boek huur Eben ’n huisie in die noordweste van die Ierse Republiek in die Donegal-graafskap vir vier maande se intensiewe skryf na die voorafgaande jare se aantekeninge maak. Daar stap hy, eet, en skryf elke dag vir agt uur lank. Hy stuur die manuskrip aan Frederik de Jager van Tafelberg Uitgewers, wat onmiddellik besef dat hy hier met ’n uitsonderlike boek te doen het.

Volgens Eben werk hy op sy beste in afsondering. Met Foxtrot skryf hy ook baie van sy woede teenoor die politieke situasie in Suid-Afrika uit. Skryf is vir hom terapie. En alles was die moeite werd, want na publikasie en al die gunstige resensies ontvang Eben in 1994 die WA Hofmeyr-prys vir Foxtrot. Die boek word in Duits en Nederlands vertaal.

Oor Foxtrot het Ia van Zyl geskryf: "Uit die roman blyk dit dat die vleiseters hier dui op ’n blanke boeregesin, en dat die gesin mettertyd prototipe word van ’n hele geslag, sal ons maar sê, blanke Afrikaners. Die ‘foxtrot’ van die titel dui op die manier waarop die gesin op krisissituasies reageer. Fokalisator en verteller is Petrus Steenekamp, seun van Hendrik Douw en Iris. Petrus is waarnemer en optekenaar en so wil dit lyk draer van die visie van die (geïmpliseerde) skrywer. Dit blyk mettertyd dat van die gesin dit eintlik net die optekenaar Petrus is wat bewus is van die swartmense op die plaas as mense. Vir die res van die gesin is hulle bloot nuttigheidsartikels waarvan ’n mens, selfs ná jare van getroue diens, oornag ontslae raak as hul teenwoordigheid jou nie meer pas nie.

"Die verhaal van die plaas (Wildeperdehoek) word uiteindelik metafoor vir ’n land waar miskenning eindelik lei tot vergeldende vuur. Dit is nie net nog ’n boek waarin oor apartheid en die korruptheid van die weermag gesanik word nie, want Eben Venter is as skrywer so slim soos die houtjie van die galg. Hy beskik nie slegs oor ’n buitengewoon fyn waarnemingsvermoë nie, maar openbaar ook ’n besonderse skrywersfinesse. Dit is veral die volgehoue ligtheid van sy aanslag, tesame met die gebruik van ’n hele aantal vernuftige skryftegnieke, wat van dié boek ’n buitengewone leeservaring maak, futlose Steenekamps en al. Dit is ’n roman van gestolde bewegings, van hier vat en daar vat doelbewus en in pas met die ligte aanslag."

In Beeld van 6 September 1993 skryf Joan Hambidge: "Foxtrot van die vleiseters is ’n boeiende boek en een wat in sy slotakkoord die gegewe wil ophef. Die Appendiks is nogal snaaks omdat karakters se kommentaar opgeneem word asof hulle werklike mense is. Nie net die wilde perde galop oor Wildeperdhoek nie, maar ook die volgehoue spel tussen werklikheid en fantasie. Wie is herkenbaar? En die bywoorde word inderdaad ingeryg. ’n Beswaar dat die teks nie altyd van hoofstuk ná hoofstuk sluit nie, word egter ondervang deur die feit dat hiér ’n skrywende verteller agter alles sit. En hy laat die leser dans.”

Vir Eben self is Foxtrot van die vleiseters polities en hoewel die noodtoestand van destyds diep gesetel in die storie is, figureer die diepgewortelde plattelandse familielewe ook sterk. “Ek weet Februarie 1991 is al lankal verby,” sê Eben aan Grütter, “en dinge het oënskynlik verander. Vandag vra mense hulleself af: waaroor het dit nou eintlik alles gegaan? As ek na sommige dinge op TV kyk, kan ek nie glo dis dieselfde SAUK van toe nie. Alles is oper. Aan die vrese het egter niks verander nie. Destyds was dit integrasie, vandag is dit die ekonomiese toekoms. Vandag, soos destyds, was dit moord en doodslag en aanvalle op die paaie. Dieselfde vraag bly: Wat gaan gebeur? Net, dit raak al hoe dringender. En die gerugte wat bydra tot mense se vrese het nie verdwyn nie.

“Maar ek probeer om nie met etikette te werk nie. Ek vertel van die interaksie van mense in ’n [polities] stormagtige tyd, oor mense se grondliggende angste en hul beswerings daarvan. Die geïsoleerde gebeure op so ’n plaas bly maar die mikrokosmos van die groter Suid-Afrika. Ek het lankal aantekeninge begin maak, eintlik vandat ek ná skool in die Lugmag weermagdiens gedoen het. Dit het my jare geneem om oorsee nes te skop, maar die notaboeke is bygehou, iets waaroor ek lank gebroei het, en wat lank gegis het. En in Australië het die afgeslotenheid, die gebrek aan kontak met Afrikaansheid, my omtrent gedwing om te begin skryf. Dit was ’n manier om nog steeds met my eie Afrikaansheid te kommunikeer, om ontslae te raak van my skuldgevoel, en om opnuut Afrikaans-mens-wees te herwaardeer.”

In 1995 keer Eben tydelik terug na Suid-Afrika, huur ’n huis in Prins Albert in die Karoo, waar hy hom weer afsonder, en begin skryf aan Ek stamel ek sterwe. Hy keer terug na Australië, waar hy in ’n internetkafee gaan werk en agt maande spandeer aan die afronding van sy nuwe roman. Sy nuwe roman het vigs as tema, hoewel dit nooit by die naam genoem word nie. Ook vir hierdie roman ontvang hy (in 1997) die WA Hofmeyr-prys. Ongelukkig kon hy nie in aanmerking kom vir die M-Net-prys vir Ek stamel ek sterwe nie, omdat hy ’n Australiese burger is. Die boek word in Nederlands en Duits vertaal.

Willie Burger skryf in Beeld van 17 Februarie 1997 dat Eben se Foxtrot van die vleiseters ’n soort omkering van die tradisionele plaasroman (soos byvoorbeeld die werk van CM van den Heever) was. "Ek stamel ek sterwe het ook die plaas as vertrekpunt, en die ondergrawing van die patriargale stelsel staan weer sentraal daarin. Konstant Wasserman, die ek-verteller, maak ’n ‘sprong vanaf die vleiskultuur tot hier’ (152); vanaf die skaapvleisetende gesin op die plaas, tot in ’n vegetariese restaurant in Australië. Hy gaan nie net Johannesburg toe, soos Johannes Steenekamp in Foxtrot nie, hy vertrek na Australië om ‘weg te kom’. Hy wil homself losmaak van die klein dorpie, van die plaas, van die skuldgevoelens van blankes in Suid-Afrika en veral van sy pa.

"Konstant ervaar ’n soort bevryding in Johannesburg (waar hy voor sy vertrek na Sydney bly) en leef van partytjie tot partytjie saam met Deloris (’n soort moederlike figuur). Hy raak verlief op Jude, ’n Suid-Afrikaanse vrou wat ook in die proses van verhuising na Australië is. Hulle woon saam in Johannesburg en later weer in Sydney. Sy stel hom bekend [sic] aan Shane, die eienaar van ’n vegetariese restaurant in Sydney, waar hy begin werk as skottelgoedwasser, later uitmunt as sjef en selfs as bestuurder waarneem. Hy ontdek dat hy vigs het en sterf uiteindelik met Jude en Shane wat hom tot op die laaste versorg.

“Die sterkste eienskap van hierdie roman is die manier waarop die taal gebruik word. Die somber gegewe van die lyding en sterwe van ’n vigslyer, asook die titel en die donker buiteblad, laat mens ’n swaarmoedige roman verwag. ’n Verrassende ligtheid word egter deur die voortdurende speel met woorde teweeggebring. Teenoor die erns van die lyding en dood van die ek-verteller, skep die taalgebruik soms ’n bykans opgeruimde atmosfeer. (...) Eben Venter se kreatiewe aanwending van taal is veral daarvoor verantwoordelik dat Ek stamel ek sterwe, ten spyte van die somber tema van lyding en dood en die soms uitgerekte beskrywings (soos byvoorbeeld van die vliegtuigrit na Australië), ’n aangename leeservaring is.”

Herman Wasserman het Ek stamel ek sterwe as ’n baie ontstellende boek ervaar. “Dié verhaal, oor ’n Suid-Afrikaanse emigrant wat in Australië vigs opdoen, is soos om ’n sterwende dag vir dag, wankelende treetjie na wankelende treetjie te begelei na die dood. Meer nog: dit is om self te voel hoe jy stukkie vir stukkie sterwe. Want Venter trek sy leser in deur van ’n ek-verteller in die teenwoordige tyd gebruik te maak, wat al belewende (en al sterwende) sy ervaringe en gedagtes karteer.
“Dit is ’n moeilike verteltegniek, maar Venter slaag goed daarin. Maar, hoewel die boek ’n uiters aktuele tema vreesloos in die gesig staar, is dit baie meer as ’n neerdrukkende verhaal oor vigs. Dit is in ’n groot mate ook ’n heimweeverhaal, ’n terugkyk na verlore onskuld, verbygegane dae en ’n bestekopname van ’n land en ’n samelewing waarvan afskeid geneem word. (...)

“Die swaarmoedige tema word egter ook met volop humor aangebied, en toon voorbeelde van Venter se skryfvermoë op sy beste. (...) Die spel met geykte Afrikaanse uitdrukkings, die skryfwyse van gesprekstaal, die verskillende registers, alles getuig van ’n skryftalent wat hom nie laat inperk nie. ’n Pynlik eerlike roman, aangrypend weens sy inherent Afrikaansheid, ongeag die feit dat dit grootliks in Australië afspeel. ’n Vertelling deur iemand wat die taal vaardig hanteer, wat binne liefde en dood nog volop ironie en humor kan hou en wat, te midde van soveel ander dinge, op die einde ook baie sê oor die Afrikaner, die plaas en die ewige hunkering.

“Bladsy 214: ‘Ek wil nog net, as Pa nog net een keer my hand wil vat en my daar na die land onder die damwal toe vat, die land met die vars omgeploegde grond. As Pa my net soentoe kan neem so teen sonsondergang as die dou al vars op die sooie lê, wanneer die hemel donkerder raak ...’ Ysingswekkend vaardig.”

Eben vertel aan Kobus Burger (Beeld, 13 Desember 1996) dat dit vir hom ná die vyf maande se skryf op Prins Albert gevoel het of hy sy eie dood beleef het. “Ek het myself probeer inleef in hierdie persoon. Ek wou uitvind hoe dit voel om jou sig te verloor. Wat ervaar jy as jou liggaam stelselmatig afgetakel word?

“Dit het partykeer gevoel asof ek self besig is om dood te gaan. Dis wat ek van myself gegee het: daardie inlewing. Ek het die karakter gegrond op iemand wat ek geken het. Ek het hierdie persoon redelik intiem leer ken en saam met hom geleef tot en met sy dood. Ek het waarnemings gemaak en as ’t ware aan my eie lyf ervaar hoe die persoon stelselmatig sterwe. Dit is wat ek probeer vaslê het. Ek wou dit graag neerskryf omdat dit so ’n groot impak op my eie lewe gehad het en omdat ek gevoel het hierdie persoon het op ’n ironiese wyse met sy dood vrede gemaak.”

Oor die verblyf op Prins Albert waar hy so intensief gesit en skryf het, vertel hy aan Kobus Burger dat dit goed was om terug te kom na ’n Afrikaanse gemeenskap. “’n Mens raak uit voeling met jou taal. Vir die skryf van die roman het ek notas gebruik wat ek met die sterwe van die persoon gemaak het.

“Die dood is iets wat jy nie spontaan konfronteer nie. Ek het ontsaglik gedetailleerde aantekeninge gemaak gedurende daardie tyd. Ek moes dit weer deurleef. En omdat ek probeer inklim het in hierdie persoon se eie lyf, was dit verskriklik roerend en emosioneel. Soms het dit vir my gevoel of my eie liggaam besig is om uitgeteer te raak. Noudat ek die boek klaargeskryf het, voel ek dit was vir my soos om na ’n terapeut toe te gaan.

"Tog het die dood ’n blywende effek. Dit het my beswaard gemaak vir jare daarna. Mense sê vir my ek is té ernstig. Dit het my vreeslik ernstig gemaak. Ek vind dit nou nog moeilik om na stand-up comedy op TV te kyk, waarvan daar ’n oorvloed is in Australië. Dis ’n baie gewilde genre. Ek kan dit eenvoudig net nie snaaks vind nie. So, miskien nadat die boek klaar is, kan ek dalk daarvoor lag. Dis nogal ’n las wat ek met my saamgedra het. Jy begryp dit nie. Die persoon sterwe en dit laat jou soort van magteloos. Jy kan dit rasioneel nooit verklaar nie. Jy moet dit aanvaar op ’n meer religieuse vlak.”

Oor die verwysing na “die pes” terwyl dit duidelik is dat dit vigs is, verduidelik Eben aan Kobus Burger dat hy graag net wou praat van ’n terminale siekte. “Ek wou dit meer universeel oordra omdat ek wou gehad het mense moet hierdie menslike wese sien wat worstel met sy dood, eerder as om vooroordele te vel oor die soort siekte waaraan hy sterwe. Ek wou die fokus rig op sy lyding, op al die emosies waardeur hy gegaan het: woede, aggressie, magteloosheid.”

Eben meen dat Ek stamel ek sterwe enig in sy soort in Afrikaans is, aangesien dit in die eerste persoon geskryf is. Hy beskryf dit as "bewussynstroom-styl": “Dis nogal ’n beperkte perspektief. Jy kan nie wegdwaal van Konstant Wasserman se perspektief nie. Jy kan nie skryf oor ander mense se perspektief op sy siekte nie. Jy is die hele tyd besig met sy eie opinies, sy eie waarnemings van mense.

“Dit was vir my ’n uitdaging om die boek te skryf uit hierdie enkele, begrensende perspektief, maar dit gee jou ook die geleentheid om die persoon heeltemal van binne te ontgin. Dit speel in sy gedagtewêreld af en ek dink nie dis al in Afrikaans gedoen nie.”

Eben voel ook dat sy verblyf in Australië die rede is waarom daar nie meer politiek in sy skryfwerk is nie. “Omdat ek vir ’n lang ruk nie meer hier gewoon het nie, was dit net nie meer vir my op die voorgrond nie. Afrikaanse skrywers het jare lank geskryf oor die grensoorlog en apartheid. Ons kan nie aanhoudend daaroor skryf nie.”

In 1999 onderneem hy ’n baie suksesvolle skrywerstoer deur Suid-Afrika om sy nuwe boek, My simpatie, Cerise te bemark.

Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt: "Ek wou na Ek stamel ek sterwe nie weer so intens skryf oor raakpunte in my eie lewe nie. Waar Ek stamel ek sterwe ’n eerstepersoonsvertelling is van iemand wat besig is om van ’n ongeneeslike siekte te sterf (in die werklikheid is my eie broer aan vigs dood), is My simpatie, Cerise ’n meer populêre boek oor ’n Ierse Rooms-Katoliek wat as tuinier by ryk mense in Melbourne werk. Ná die skryf van Ek stamel ek sterwe was my siel redelik in verbande, danksy die skryfproses, maar ek sal seker met die pyn van verlies saamleef totdat ek self doodgaan. Maar ek is klaar gepraat en uitgeskryf oor die onderwerp. Ek probeer hom nie meer herroep as ’n lewende persoon nie.”

Om te probeer om die lyding- en sterfproses beter te verstaan, het Eben hom tot die Boeddhisme gewend om antwoorde te kry: “Ek het geleer dat dit deel is van die lewe om ’n durende bewussyn van die dood in jouself om te dra. Dan word elke moment ’n kosbare oomblik wat jy moet aangryp. Dis iets waarna ek streef. Religie is iets waarmee ek grootgeword het. Ek dink dit hoort so. ’n Kind kan, wanneer hy ouer is en reeds ’n agtergrond in godsdiens het, dinge bevraagteken. My aanklank by die Boeddhisme sluit nie Christenskap uit nie. Ek lees dikwels in die Nuwe Testament. Veral die ou vertaling, want ek hou van die swaar, gedrae taal. Die Bybel spoor my aan om oor die lewe te besin.

“Maar nie die hele Bybel nie. Daar is ’n paar rowwe stukke daarin. Die opdrag om eers na jouself te kyk voordat jy na ander kan omsien, kom voor in die Boeddhistiese sowel as Christelike leer. Die Boeddhisme het my geleer dat ’n mens nie in ’n sterwende se teenwoordigheid moet ween nie. Want jy gee hom nie geleentheid om te gaan nie.

"Om so oortuigend moontlik oor ’n sterwende te kon skryf, het ek as ’t ware binne-in die karakter geklim. Sodat ek as eerstepersoonsverteller werklik die lyding kon ervaar."

Is die feit dat Cerise so dramaties verskil van Ek stamel ek sterwe ’n doelbewuste poging om nog verder afstand te kry van die pynlike gebeure rondom iemand wat sterf? “Dit is seker nog deel van die helingsproses. Ek wil egter graag glo dat ek vernuwend kan skryf. Ek weet nie of ek dieselfde soort roman deur ’n bepaalde skrywer jaar ná jaar wil lees nie,” verduidelik hy aan Nieuwoudt.

Die tuinier in Cerise is geboei deur die doen en late van die rykes van Melbourne, maar hy kan ook nie hul vertoon van hul rykdom verduur nie. Of daar enige ooreenkomste is met sy eie ervaring in Australië, sê hy aan Nieuwoudt: “Kom ons volstaan met ek het oor ’n tyd aantekeninge gemaak van staaltjies wat ’n Ier my in ’n kroeg vertel het. Hy was gefassineer deur Cerise, en dié fassinering het my gefassineer.”

Vir die nuwe rykes het Eben, wat by tye ook ’n kok en spysenier is, klaarblyklik nie veel tyd nie. “As spysenier het ek al op talle van die rykste mense van Melbourne se partytjies beland waaroor ek vrolike en sappige aantekeninge gemaak het. Die Australiërs sê graag hulle is ’n klaslose samelewing, maar die nouveau riche probeer om kunsmatig ’n eie klas te skep. Hulle gaan met alles om asof dit verbruikersartikels is. Kos is nie iets wat hulle voed nie. Dis iets wat aangewend word om ’n bepaalde beeld na buite uit te dra.”

Op ’n vraag of hy nie dalk te veroordelend teenoor die Australiese gemeenskap is nie, verwys hy na die tuinier Robert Mackie in die boek. “Mackie betrap hom dat hy veroordelend is en dan wend hy ’n poging aan om simpatiek te wees. Hy herken die broosheid van Cerise. Ek hoop ek kan ook simpatiek wees.”

In Beeld van 30 Augustus 1999 skryf Willie Burger dat Eben Venter in My simpatie, Cerise weer eens bewys lewer dat hy ’n "fyn stilis” is: "Die gebeure speel volledig in Australië (en in ’n mindere mate Ierland) af. Die somberheid van Ek stamel ek sterwe is in My simpatie, Cerise gedemp. Ten spyte van die helderder voorblad en ’n veel ligter inslag, is Cerise egter nie ’n skielike ommeswaai na ’n vrolike, sorgvrye Eben Venter nie. Inteendeel, hier is ook ’n dood aan die einde, en die simpatie wat in die titel uitgespreek word, is broodnodig (vir meer as net Cerise).

"Soos in Venter se vorige romans is gesinsverhoudings weer ’n belangrike tema. Nie alleen word die onderlinge verhoudings van die skatryk Cox-gesin deur hul tuinier, Robert, uitgepluis nie, maar ook die invloed van Robert se werkersklasgesin op sy eie lewe word ondersoek.

"Verder word die klasse-onderskeid in die (Australiese) samelewing ook belig: die stinkrykes wat baie hard probeer om hulself as ’n afsonderlike klas te vestig (al is dit met swak smaak wat indruk maak omdat dit duur is) aan die een kant, en die gewone mense aan die ander kant. Soos Cerise dit stel: '[S]ome of us simply are superior' (86). Robert vind in sy bevoorregte, hoogsbetaalde posisie as tuinier van die magtige Cox-familie die geleentheid om binne die hoë ringmure en agter die getinte ruite van die rykes insae in hulle lewens te verkry. (...)

"Eben Venter het met My simpatie, Cerise iets besonders reggekry. Dit is ’n roman wat in die leunstoel gelees kan word en wat die leser enduit sal vermaak, maar mens tog ook met ’n gevoel van droefheid (en simpatie) sal laat. Dit is ook’n roman wat met ’n versigtiger lees steeds meer moontlikhede inhou weens fyner suggesties en verwysings wat jou laat besef dat jy met ’n fyn netwerk te doen het waarin elke oënskynlik onbenullige verwysing vele duidings het."

In ’n stadium het Eben op ’n stuk “bosgrond” in Melbourne gewoon, waar hy hom heeltemal kon afsonder en net kon skryf. “Dis vir my wonderlik om te skryf. Ek kan nie dink dat ek meer vervul sal voel in enige ander werk nie. Vanweë my afsondering, sien ek nie baie mense nie en daar is weinig dinge wat my aandag van my skryfwerk aftrek – daar is nie vermaak en verleidings by my voordeur nie. Die stilte gee my die geleentheid om dinge te verteer en te verwerk. Ek weet nie hoe mense in die stad hul eie lewe kan verwerk nie.”

Hy en sy lewensmaat open ’n tuisrestaurant, The Long Table at Redhill, in Melbourne, waar hulle een maal per maand sestien tot agtien mense onthaal. Hulle het die restaurant in Augustus 2003 verkoop. “My passie vir kosmaak is tot niet,” het hy aan Stephanie Nieuwoudt vertel. “Dit neem ’n mens se hele lewe oor as jy ’n restaurant bedryf. Ek droom al ek het nie genoeg lamsboud om aan die gaste voor te sit nie.”

In November 2003 keer hy terug na Suid-Afrika om sy pa, Willem-Frederik, tydens sy siekbed by te staan en uiteindelik te begrawe. Sy tagtigjarige ma, Maureen, gaan bly op Jeffreysbaai. Hy vestig hom tydelik weer op Prins Albert. En die afgelope paar jaar woon hy saam met sy lewensmaat, Gerard Dunlop, in Lismore, Nieu-Suid-Wallis aan die ooskus van Australië.

Gedurende April en Mei 2005 bied hy klasse in kreatiewe skryfwerk aan by die Adam Mickiewicz-universiteit in Pole, asook by die Skool van Neerlandistiek aan die Palacky-universiteit in die Tsjeggiese Republiek. Hy is ook genooi om in 2007 etlike maande in Wassenaar in Nederland te vertoef as inwonende skrywer by die Netherlands Institute for Advanced Studies in Literature.

In 2000 keer Eben terug na die genre van sy eerste boek, Witblitz, naamlik die kortverhaal, met die publikasie van Twaalf, wat volgens Hennie Aucamp opnuut bevestig dat Eben ’n fyn-ontwikkelde “sintuig” vir die kortverhaal het.

"Die eerste groot verrassing van die bundel is dat die verhale telkens so toeganklik is – en met 'toeganklik' word vir geen oomblik 'fasiel' bedoel nie, want daarvoor het die meeste verhale ’n geestelike onderlaag wat deurskyn deur die storielaag. In enkele verhale is daar ook wat James Joyce 'die epifaniese oomblik' genoem het.

"Hiervan is die slotverhaal ’n aangrypende voorbeeld. Die titelkarakter, Leo, voel sy dood nader, en op ’n winternag gaan stap hy vir laas deur sy dorp Burgersdorp. Op sy winterreis kom hy, soos sy naamgenoot in Ulysses, talle mense teë, veral swart mense. Bowenal kom hy homself teë. Herinnerings oorval hom, en dan volg dié beduidende sin: 'Leo sê hardop vir homself dat hy nie nostalgie het nie, geen verlies ervaar nie.'

"Dis in 'Leo' en ander Burgersdorp-verhale dat mens opnuut besef hóé sterk Eben Venter by die Burgersdorp-skool aansluit, skryf aangaande; by die Postmas en Van der Walts voor hom, en bowenal by Jan Lion Cachet, wat Sewe duiwels en wat hul gedoen het geskryf het. (...)

"Wat nóú by Venter deurkom, is ’n bewustheid van die tragiek van die menslike kondisie. Hy kyk die ontstamde wit man en die bedroë swart man met ewe veel nugterheid en ja, soms erbarme, aan.

"Die bundel Twaalf laat die vermoede ontstaan dat die era van Exile Literatur (ballingskapsliteratuur) in Afrikaans begin het. Dis opvallend dat die sterkste verhale in Twaalf deur die bank in die teken van afskeid, vertrek en aanpassing staan. Die beste verhale in die bundel beteken ’n verryking van die Afrikaanse verhaalskat, maar dis die gedrae 'Leo' wat hom onmiddellik as ’n moderne klassiek aanmeld."

In Julie 2003 het Eben na Suid-Afrika gekom om sy roman Begeerte te kom bemark en het hy beplan om teen die einde van daardie jaar vir minstens ’n jaar na Suid-Afrika terug te keer.

"Ná byna twee dekades in Australië," skryf Stephanie Nieuwoudt, "is Eben nog onteenseglik Suid-Afrikaans. Hy praat Afrikaans wanneer hy kan in die vreemde en verlang terug na die landskappe in Suid-Afrika.

Eben vertel self verder: “Ek is in 1986 weg uit Suid-Afrika. Dit was in die tyd van die noodtoestand, toe daar uit protes oop ruimtes in koerante gelaat is omdat sekere inligting nie gepubliseer kon word nie. Ek is opgeroep om in die townships ’n weermagkamp te gaan doen. Dit was ’n valse noodsaak; iets waaraan ek my nie wou steur nie. Ek voel nie ek het iets verkeerds gedoen deur die land te verlaat nie.

“My emigrasie was ’n suiweringsproses. Die afstand het onder meer my bande met my ouers versterk. Dit bied jou die vermoë tot vergifnis. Netelige dinge word net netelige dinge. Van ’n afstand sien jy die belangrike dinge raak. Daar was konflik tussen my en my ouers, maar dit was oor die Suid-Afrikaanse situasie. Ek glo nie dit was meer of minder as wat daar tussen ander kinders en hul ouers is nie.

“Met Foxtrot van die vleiseters het ek baie van dit wat negatief is aan die Suid-Afrikaanse situasie uit my uitgeskryf. Om te skryf is terapie.”

Begeerte (2003), wat in 2004 met die WA Hofmeyr-prys bekroon word, speel in die Oos-Kaap af. Dit vertel die verhaal van ’n vrou, Madelein, wat ondanks haar man, Bill, se ontrou, steeds aan hom verbind bly.

“Dis my eerste roman waarvan die karakters nogal ver van my eie lewe staan," vertel Eben aan Stephanie Nieuwoudt (Volksblad, 5 Julie 2003). “Daar was minder wroeging as met my ander werk, maar ek het ook harder gewerk aan Begeerte. Ek het drie jaar lank navorsing gedoen.”

Op aanbeveling van die digter en boekeredakteur Petra Müller het hy die klassieke Medea, deel van die Oresteia-trilogie, gelees. “Die boek gaan uiteraard ook oor verlies. Medea vermoor haar kinders om wraak te neem op haar man en Madelein probeer haar fetus aborteer.”

Op ’n vraag van Nieuwoudt of die boek en Bill se houvas op Madelein nie iets sê van die patriargale oorheersing in die Suid-Afrikaanse samelewing nie, antwoord Eben: “Ek het nog nie aan dié moontlikheid gedink nie, maar elke leser moet sy eie afleidings maak.”

Oor die temas van vergifnis en versoening gee hy toe dat dit gelees kan word as ’n metafoor vir die situasie in Suid-Afrika. "Die titel van die boek het hy gekry uit die mite van Psige en Eros. Toe Psige die eerste keer deur ’n pyl uit Eros se boog getref is, is sy dadelik gevul met begeerte – soos Madelein, wat haar lewe lank betower was deur Bill. Eros het gesê Psige mag nooit sien hoe hy lyk nie, maar toe sy wel een aand in lamplig sien hoe hy lyk, het sy sy diepste wese ontbloot. Madelein slaag egter nooit daarin om Bill werklik te verstaan nie. Sy het altyd die begeerte om hom en sy optrede te verstaan. Begeerte as seksuele spel is regdeur die boek aanwesig. Dis baie belangrik in albei die karakters se lewens.”

Eben het die verhaal gekry by ’n vrou wat dit aan hom vertel het, maar hy wil nie verder hierop uitbrei nie. “Dis te sensitief. Wat sy my vertel het, het ’n storie geword waaraan ek bygeborduur en ook weggeneem het.”

Net soos in sy vorige boeke waarin die tema van verlies te vinde is, is dit ook in Begeerte ’n onderliggende tema: "Ek kan nie van die verliestema wegkom nie. Agterna gesien is verlies ook verrykend. Dis deel van die menslike bestaan.”

Willie Burger (Beeld, 11 Augustus 2003) skryf as volg oor Begeerte: “Madelein is tot Bill aangetrokke, juis deur dié eienskappe wat dit vir hom onmoontlik maak om getrou te wees. Haar huiwering om háár begeerte uit te leef, lei daartoe dat dit 'skeef loop tussen hulle': 'Tussen hulle twee het sy gekom: met haar weiering, haar kop, haar eie wil.'

“Bill en Madelein se harde werk om ekonomies op die been te kom, haar vrees om deur Bill gekul te word en sy ontrouheid, vernietig Madelein en die leser se romantiese verwagtings. Bill se aanhoudende gejag na vroue (sy ontrouheid begin heel gepas tydens ’n jagtog) en sy weiering om deur enige vrou ‘vasgevang’ te word en die effek daarvan op Madelein, speel af teen die agtergrond van geleidelike veranderings in die land se (politieke) geskiedenis.

“Die Oos-Kaapse omgewing word, soos in Venter se ander werk (bv in Twaalf ), helder opgeroep. Die vergange, romantiese onskuld van die voor-oorlogse Oos-Londen kry op byna weemoedige wyse gestalte. Die geskiedenis van die regeringsprojekte om besproeiingsplasies te Vaalharts vir oorlogsveterane beskikbaar te stel, die tuislandbeleid en die geldmaakgeleenthede wat opportuniste daarin raaksien asook die skynheilige rasvooroordele van die tagtigerjare, vorm ’n interessante agtergrond.

“Waar die politiek aanvanklik slegs agtergrond is (“Sy het hom mooi deurgekyk: die bakleiery oor die politiek is maar sy manier, en hare, om mekaar in die bed te kry. ’n Voorspel en ’n aanhitsery, niks meer nie.”), speel dit algaande ’n belangriker en selfs deurslaggewende rol in die twee hoofkarakters se lewe.

“Een van die opvallendste aspekte van die roman is die karakterisering. Venter kán oortuigende karakters skep, met humor en met deernis vir hulle swakhede (soos Konstant in Ek stamel, ek sterwe, die sterwende ou man in Twaalf, Cox en Cerise in My simpatie, Cerise).

“Perspektiefwisseling word goed benut en die beskrywings van sekere tonele met humor en fyn registrering van emosionele ondertone in die taalgebruik het al kenmerkend van Venter se werk geword. Talle van hierdie onthoubare tonele het (soos in sy vorige romans) met etes of onthale te doen en verteenwoordig telkens belangrike keerpunte (die ete op die trein, Madelein wat die ander hoewebewoners se aandete onderbreek, Bill wat sy ‘gesin’ aan huis in Oos-Londen onthaal, Bill se onthaal vir die buitelandse besoeker).

“Die ritme van Venter se prosa en sy woordkeuse dra by tot die oortuigende oproep van ’n vergange era. Sentimentaliteit word deur die bedrieglike ligtheid van vertelling vermy. Die volgehoue intensiteit van Ek stamel, ek sterwe ontbreek miskien, maar die roman is ’n stewige bydrae tot Venter se oeuvre en verryk die Afrikaanse vertelkuns.”

Eben se volgende roman, Horrelpoot, word in 2006 gepubliseer. "Prins Albert in die Groot-Karoo aan die voet van die Swartberge is die plek waar ek kwarantyn gevind het," het Eben aan Johan Myburg vertel. "Dis waar ek ’n huis gerestoureer het en vir ’n paar jaar vertoef het. Dit is ook die plek waar ek Horrelpoot geskryf het. In isolasie."

Behalwe die huis op Prins Albert het hy nog altyd ’n aanklank vir Australië, waar hy 17 jaar gewoon het. “Die lot van ’n emigrant is dat jy nêrens tuis is nie,” sê hy.

Maar hierdie "lot" waarvan Eben praat, is dít wat hy nog altyd tot voordeel van sy skryfwerk ingespan het, en dalk was dit hierdie afstand en die feit dat hy in die 1980's en 1990's nie in Suid-Afrika was nie, wat gelei het tot sy ander blik wat hy op die gebeure in Suid-Afrika gegee het. "Miskien was dié afstand juis nodig om ’n boek soos Horrelpoot die lig te laat sien; om die onsegbare onder woorde te bring. Want, die inhoud van dié jongste boek is die soort goed waaroor mense nie wil praat nie,” gee hy toe.

“Miskien is dit deel van mense se oorlewingsdrang om dié soort goed nié te wil verwoord nie. Dis beter om dit nié te sê nie, want hoe ­verwoord jy dit met die wete dat jy hier moet bly? Nie almal is in ’n ­posisie om die land te verlaat nie. En nou het ek dit gesê. Dis uit en gedaan. En nou kan ek aangaan.”

Johan Myburg meen dat Horrelpoot se tema die gesamentlike ("kollektiewe") vrees is (of "erfvrees", om Eben se woord te gebruik) teen die agtergrond van ’n geplunderde Suid-Afrika en word alles ’n ­nagmerrie wat waar geword het.

Myburg skryf verder oor die roman (Volksblad, 29 November 2006): "Marlouw en sy suster, Heleen, woon in Melbourne. Hulle het Suid-Afrika jare gelede verlaat. Heleen se seun, Koert, wat ook in Australië grootgeword het, keer terug na die familieplaas buite Maitland (die naam wat tydens die vestiging van Burgersdorp in die Oos-Kaap vir dié dorp oorweeg is) en vestig ­hom daar as ’n soort 'koning'. Die raakvlakke tussen Venter se ­roman en Joseph Conrad se Heart of Darkness word reeds in die name van die karakters duidelik.

"Marlouw se reis na die plaas is meteens ook ’n reis na binne. En dis waar die donkerte dalk des te ­drei­gender word. As 'emigrant' het Venter immer sy oor op die grond gehad. Wat in die land gebeur het, het hy ­op­gevang – in die media, in gesprekke, tydens ­etlike besoeke."

Nadat Eben weer vir enkele jare in Suid-Afrika gewoon het, het hy weer die landskap begin waardeer en het hy weer gewoond geraak aan die manier waarop mense praat en die kern van die gemeenskap, verduidelik hy aan Myburg: “Ek het in Prins Albert gesit, en soos ek skryf, het die goed waaroor ek skryf, gebeur. Daar was op ­daardie tydstip juis berigte oor die ­begraafplaas in Victoria-Wes wat ­ge­vandaliseer is. ’n Groot deel ­daarvan is verwoes. En daar was die kragonderbrekings.”

Een van die elemente in die roman wat die leser die meeste sal onthuts, is juis hierdie "goed wat gebeur", en dit is waarop lesers reaksie gaan toon. En dit is hierdie aspek wat Eben aangespoor het om navorsing te doen, onder meer oor die amigdala, die klein, amandelvormige nukleus in die brein wat sy eie geheue van vrees en vreespatrone het. “Ek het die jongste navorsing oor die onderwerp bekom. Heelwat daaroor nagelees. En natuurlik ook ­Con­rad noukeurig gelees. En ­Chinua Achebe se kritiek dat ­Conrad rassisties was in sy uit­beelding van mense.”

Dit was nog altyd duidelik dat Eben se intensiteit een van sy karaktertrekke is, ook dat ’n mens hom as ’n ernstige persoon sou kon opsom. Wanneer hy oor Horrelpoot praat, kom ’n mens agter dat dit nie in ’n ommesientjie geskryf is nie, skryf Myburg: “Ek het die afgelope twee jaar of wat meer gelees as in ’n lang tyd. Met gespitste aandag. En weer ­onder die indruk gekom van die waarde van klassieke werke. Alles is as ’t ware klaar gesê. En ek verstaan nou ook meer en meer van die romankuns; die geskiedenis van die narratief. Ek begin die struktuur van die roman ­beter begryp.

“Of dit goed is om al dié goed ­intellektueel te begryp, weet ek nie. Ek dink nietemin dat as ek skryf, ek dit uit die derms wil doen.” 

Om “uit die derms te skryf” is ­immer ’n eienskap van Venter se skryfwerk. Hang dit saam met sy waarnemingsvermoë? wou Myburg weet. 

“’n Mens leer aan om skerp te kyk, te luister en te ruik. Omdat ek die sensasie, of eerder die manier waarop ek die sensasie ervaar het, ­maklik vergeet, maak ek aan­tekeninge. Spesifiek van die manier waarop ek dit in woorde ervaar het.” 

Vir Johan Myburg word hierdie talent om klein besonderhede in Afrikaans raak te vat, besonder goed in Horrelpoot geïllustreer en word dit so mooi uitgebeeld dat dit ’n tweede lees regverdig.

In 2009 verskyn Eben se Santa Gamka. Die agtergrond vir die roman is die Karoo waar die mense nog nie die impak van die "nuwe" Suid-Afrika so aan die bas voel nie. Hier bly Lucky Marais, ’n "huurknaap". Sy wêreld het vir hom te warm geword en nie eers sy gevatheid of sy voorkoms gaan hom red nie.

Die roman het die WA Hofmeyr-prys en die M-Net-prys in die Afrikaanse kategorie verower. Dit is uitgesonder vir die vernuwende taalgebruik daarin. In haar resensie vir die Hofmeyr-prys sê Louise Viljoen: “Vir my gevoel slaag Venter nie net daarin om Lucky (’n rentboy op ’n Karoodorpie) se perspektief oortuigend vas te vang nie, maar ook om ’n besondere soort Afrikaans met sy vertelling vas te lê.”

“Ek is tevrede met dié boek,” sê Eben aan Johan Myburg. “Nou moet ’n mens maar wag en sien hoe dit ontvang word.”

Die kritiek wat Venter vroeër uit sommige oorde op Horrelpoot gekry het (onder meer dat dit somber, distopies, apokalipties en Afro-pessimisties is), het nie ongemerk verbygegaan nie. “Ek was nie daaroor verbaas nie, maar dit was nietemin besonder fel in sommige gevalle. [...] Ná Horrelpoot wou ek ’n post-apartheid-boek skryf. Dalk ligter, dalk meer ‘toeganklik’.” 

En die soeke na ’n "ligter" boek het neerslag gevind in Santa Gamka met Lucky as hoofkarakter. Uit die openingsin – wat Eben 70 keer oorgeskryf het omdat dit vir hom baie belangrik is dat die eerste woorde van ’n roman moet tref – weet die leser dadelik dat Lucky ’n bruin man uit die postapartheid era is.

Dit is ook die eerste van Eben se romans waar sy lang verblyf in Prins Albert so ’n prominente rol speel – nie net as gevolg van die aardrykskundige beskrywing nie, maar ook ten opsigte van die taal wat in die roman gepraat word.

Eben het deur die jare baie doelbewus fyn na die mense van sy dorp en omgewing se praat- en taalgebruik te luister. Hy het notas gemaak en ’n woordeboek opgestel van gesegdes, woorde en uitdrukkings wat eie is aan die mense van die Groot Karoo, skryf Johan Myburg in sy artikel oor Santa Gamka (Beeld, 5 November 2009).

Dit is dan ook te danke aan hierdie noukeurigheid dat Lucky se karakter nie in ’n stereotipe verval nie – hy bly ’n kind van sy omgewing en word nooit ’n karikatuur nie. Eben het te veel respek vir sy karakters om so iets te laat gebeur: “Dit was vir my belangrik om die verhaal te vertel in Lucky se taal en woordeskat. Om op dié manier as’t ware onder sy vel te kom.”

Die leser word nie net geneem na die wêreld van die mense wat in modderhuise in die Karoo woon nie, maar Venter verryk tegelykertyd die Afrikaanse taal deur die gebruik van soms argaïese gesegdes en ongewone taalgebruik.

Myburg gaan voort: "Soos in Horrelpoot is die stryd teen toenemende domheid ('dumbing down') ’n sentrale motief in Santa Gamka. En daarmee saam ’n doelgerigte strewe na sin en betekenis. Dit weerspieël dalk ’n deel van Lucky se ingesteldheid: om weg te kom van ’n wêreld waarin alkohol seëvier (die wêreld van sy pa) en ’n soeke na ’n lewe met beter gehalte. En liefde."

Die verhouding tussen pa en seun is iets wat Venter interesseer. “Ek beplan om in my volgende boek dié tema te ontgin. Daar is net sulke verrassende elemente in om mee te werk.”

Vir Neil Cochrane is Santa Gamka ’n "lewenskragtige toevoeging tot die Afrikaans prosa", en vir EKM Dido ’n “literêre juweel”.

Vanaf 2007 tot ongeveer 2011 het Eben in die By-byvoegsel tot Saterdag se Die Burger, Beeld en  Volksblad ’n rubriek geskryf wat as sy Stoney-stories begin het en later sy Brouhaha­-rubriek geword het. Dit was verreweg die gewildste in By. SMS’e van lesers het weekliks ingestroom: “Ek hou so baie van Eben Venter se Stoney-stories. Hy doen méér om begrip en selfs bewondering van die gehate Oz by ons rotsvaste ek-sal-nooit-emigreer-Suid-Afrikaners te vestig as enigiets of iemand anders.”

En: “Eben Venter se woordkuns is soos ’n oase in die By-woestyn.”

In 2010 is ’n keur uit sy allerbeste Stoney-stories, ’n handvol onverbeterlike resepte met sy verstommende Brouhaha-vertellings as bonus uitgegee. Jeanette Ferreira (Beeld, 1 November 2010) skryf: "Venter kry dit reg om in die rubrieke/verhale betrokke te wees sonder om in die spieël te kyk, en dit wil gedoen wees. Verdraagsaamheid jeens alles en almal wat anders is, is eintlik nie die enigste woord nie. Hy stel intens belang in mense en hul manier van doen en hy verwonder hom aan hulle. Heelwat van hierdie stukke is trouens helend, veral vir geïrriteerde en desperate Suid-Afrikaners.

"In Brouhaha sien die leser dit is wel moontlik om jou gevoelens te lug, selfs om jou bloedig te vererg, sonder om ’n ander mens te verkleineer. Aan aartsgesonde sinisme ontbreek dit nie, aan diepgewortelde venyn wel. Verwag wêreldvreemde karakters, huilsnaakses, behoewendes, dapperes, hulpsoekendes, geliefdes, deernisvolles, eksentriekes, asook junkies en funkies. Verwag kortom mense wat jou anders na jouself en jou wêreld laat kyk: hoe anders is jy, hoe anders is ek, maar ons is saam in die ding. Daarbenewens word die leser beloon met spanning en onverwagte wendings. Met stóries. Dit is ’n lieflike boek, in vorm en inhoud, deur ’n buitengewoon begaafde skrywer."

In 2013 verskyn Eben se volgende roman onder die titel Wolf, Wolf. Dit is in 2014 met die kykNET Rapport Boekprys vir fiksie bekroon. Die Engelse weergawe was op die kortlys vir die Sunday Times-fiksieprys in 2014.

In haar commendatio vir die kykNET Rapport­-prys skryf Louise Viljoen op LitNet dat Wolf, Wolf ’n "sterk en ontstellende roman is waarin die verwikkelde verhoudinge tussen ’n groep karakters geplaas word teen die agtergrond van ’n eietydse Suid-Afrikaanse stadslandskap. Die roman se sentrale karakter, Mattheüs Duiker, is ’n komplekse persoonlikheid: hy is selfgesentreerd, kompulsief, verwend, naïef en as gevolg daarvan besonder kwesbaar in die verhoudings met sy vader, Benjamin, sy minnaar, Jack, en die Kongolese vlugteling Emil Youlou, wat in sy kitskosonderneming vir hom werk.

"Die roman is ’n indringende ondersoek na die sentrale karakter se interaksie met die verskillende persone in sy lewe, veral die verhouding met sy vader, vir wie hy versorg op sy sterfbed en op wie se uiteindelike aanvaarding hy as gay man hoop. Alhoewel dit aanvanklik mag lyk asof die roman afstuur op ’n positiewe en versoenende einde tussen vader en seun, blyk dit ’n illusie te wees. Die gevolg van Benjamin se finale verwerping van sy seun is die snelle afloop tot by ’n uitsiglose slot waarin Mattheüs letterlik alles verloor wat hy gehad het en totaal ontredderd gelaat word.

"Op die persoonlike vlak teken die roman iemand wat as gevolg van sy beskermde agtergrond, relatiewe bevoorregting en onttrokkenheid van die werklikheid volkome onvoorbereid is op die realiteite van ’n land waarin sluheid, korrupsie, uitbuiting en bedrog so algemeen is dat die lewe ’n oorlewingstryd geword het. Tegnologiese vernuwing, die internet en sosiale media verwyder Mattheüs, en ook Jack, nog verder van die werklikheid en neem hulle ’n vervreemdende hiperrealiteit in eerder as om hulle toe te rus vir uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word.

"Op kollektiewe vlak is die roman – soos talle ander tekste in die Afrikaanse letterkunde – ’n verkenning van Afrikaners se aansprake op ’n lewe in Afrika en die geldigheid van hulle aannames. Die “wolf, wolf”-gegewe met sy apokaliptiese assosiasies en intertekstuele geskiedenis in Afrikaans word op ’n besonder veelduidige wyse gebruik om die spanning in die roman op te bou en uiteindelik tot ’n ontnugterende klimaks te bring. Die onskuldige kinderspeletjie ontaard in ’n tragedie waardeur die verskillende dierefigure in die roman terugwerkend nuwe betekenis kry.

"Met hierdie roman toon Venter weer eens dat hy nie huiwer om die kilste moontlike scenario’s van hulle leefwêreld vir sy lesers te teken nie. Net soos Horrelpoot is Wolf, wolf ’n roman waarvan die weerklank nog lank in die Suid-Afrikaanse letterkunde sal bly nagalm."

Eben erken teenoor Johan Myburg dat Wolf, Wolf die boek is waaraan hy die lekkerste geskryf het. Hy was twee jaar lank voltyds besig met die skryf van dié roman. “Dis dié boek waaraan ek sonder skroom geskryf het, sonder om myself terug te hou, te sensureer of in te perk.”

Myburg (Beeld, 14 Mei 2013) skryf oor die boek: "Met die uitdaging wat Eben by die aanpak van ’n nuwe boek voor oë het, het hy vir die karakters elk ’n eiesoortige stylstem gegee: die pa, Benjamin, dikteer briewe op ’n ou Philips-bandopnemer; Jack, Mattheüs se vriend, maak Facebook-inskrywings; en Sissie, Mattheüs se suster wat buite Laingsburg op ’n plaas woon, beperk haarself tot ’n stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn. In meer as een opsig is Wolf, Wolf ’n hoogtepunt, met die betekenis van kulminasiepunt, in Venter se skryfwerk. So asof die dekorstukke die afgelope 20 jaar of wat vir dié nuwe boek reggeskuif is."

Jare lank het Venter se vriende en sy landgenote in Australië nie toegang tot sy skryfwerk gehad nie. Ek stamel ek sterwe (2005) is wel later vertaal as My Beautiful Death, en Horrelpoot (2006) is in 2008 vertaal as Trencherman. “Dit was met die uitreiking van Trencherman dat ek besef het as ek weer ’n boek uitgee, moet dit gelyktydig in Afrikaans en Engels beskikbaar wees. Maar vir die eerste keer voel ek na ’n skrywer, nie noodwendig ’n Afrikaanse skrywer nie. Op ’n manier is dit ’n manifestasie van Wolf, Wolf as ’n kulminasiepunt."

Wat tema betref, sluit Wolf, Wolf aan by Ek stamel ek sterwe, waarin Konstand Wasserman as jong man Suid-Afrika verlaat en sy voete vind in Australië, ’n kontinent waarmee sy ouers nie bekend is nie.

In Wolf, Wolf is die hoofkarakter Mattheüs elke dag in sy swak-geventileerde en -verligte kamer besig om op die internet na pornografiese webwerwe te soek en dit is ’n wêreld waarmee sy blinde pa nie bekend is nie. Die leser leer Matt, soos sy vriend Jack hom noem, van die begin af ken as ’n gay man, en Jack en Matt se verhouding dra nie die pa goedkeuring weg nie. Maar as lesers verwag dat daar in Wolf, Wolf gewroeg word oor homoseksualiteit, moet hulle weer dink. Eben verduidelik: “Ek wou by die punt uitkom waar ’n mens goed kan beskryf soos dit is. Sonder om eers te moet verduidelik.”

Johan Myburg skryf verder: "En sonder om dit te moet verduidelik, ontwrig Venter standaard- of normatiewe sienings – onder meer dié van patriargie en genderrolle – deur die skep van ’n identiteit sonder ’n essensie, à la queer-teorie.

"Die skroewe waarop Benjamin Duiker se godsdienssin – sy manlikheid geskoei op dié van Cary Grant en Errol Flynn – en sy plek as heer van die herehuis gevestig is, word losgewoel. Tussen die pa se weergawe van manlikheid en die onverbloemde seksualiteit van Mattheüs staan dié van oom Hannes, Benjamin se broer. Uit ’n vorige geslag word sy onuitgesproke homoseksualiteit verbeeld as dié van ’n dandy.

"Hoewel die verhaal dié is van ’n seun se verhouding met sy kwynende pa, is dit die rol van gay kinders, seuns én dogters, wat as primêre versorgers na hul ouers moet omsien, wat Venter in die oog het.”

“Dis opvallend hoe Sissie, die dogter wat ’n mens sou vermoed na haar pa sou omsien, afstand behou en verskonings voorhou soos die plaas en die kinders se ballet en wat nie al nie,” sê Eben.

“Dis juis so dikwels die gay kinders wat, ondanks die feit dat hul ouers nie hul leefstyl goedkeur nie, na ’n terminale ouer omsien. Dit is wat ek ook wou uitwys."

Vir Myburg beeld Eben al hierdie dinge soos gewoonlik uit met sy "verhoogde vorm van waarnemingsvermoë".

"So is daar in Wolf, Wolf aanduidings van hierdie vermoë om klein besonderhede raak te vat in taal. So mooi dat jy dit weer móét lees. Meer nog, op so ’n manier dat ’n mens aan die woorde wil begin snuif," skryf Myburg.

Eben is bly dat die Afrikaanse en Engelse weergawes van Wolf, Wolf gelyktydig verskyn het. “’n Eerste vir NB Uitgewers. Die boek is op Amazon beskikbaar en word ook as e-boek bemark. Op dié manier is Wolf, Wolf vir my ’n hoogtepunt en ’n deurbraak.”

Wolf, Wolf is al onder meer beskryf as ’n dieptastende kyk op die verhouding tussen pa en seun, asook op ’n man wat ontredderd is omdat hy baie min dinge uit die verlede kan neem wat hom sou toelaat om aan te pas by ’n vinnig veranderde lewensbestel. Die verhaal is intens en ontstel die leser, maar dit is terselfdertyd ’n "meesterlike ontrafeling van die dun lyn van gevoel". Wolf, Wolf plaas Venter op die toppunt van sy uitsonderlike vermoë as romanskrywer.

Izak de Vries skryf op LitNet dat Wolf, Wolf maklik lees en ’n spannende roman is. "Dit is ook ’n komplekse teks, ryk aan snydende kommentaar op die hedendaagse samelewing. Die roman ondersoek ’n middelklas wit gesin se lewe, maar dit vra heelwat vrae oor ’n aantal kwessies wat ons samelewing tans bedreig." 

Wolf, Wolf is onder dieselfde titel in Engels vertaal en is sy eerste roman wat in Australië sowel as in Engeland gepubliseer is. Evan Ritchie het gemeen dat een van die kerntemas in Wolf, Wolf die "problematic cultural manifestations of 'masculinity'" is en gewonder of Eben ’n oplossing vir hierdie probleem in die toekoms sien.

Eben het geantwoord: "In Australia, a lot of men are gay, or married with children, or single, and they’ve become emancipated and free and easy and open about themselves and about their emotions and about being physical with other men or with their sons without it necessarily being sexual. I’ve seen and experienced these men in South Africa as well, but because I don’t live there permanently, I don’t have that constant opportunity to observe. I think men are moving on, or at least some men. I do frown upon some men in politics at the moment, but I won’t mention names." (http://popculture-y.com/2015/02/eben-venters-wolf-wolf)

Nog ’n roman ná Wolf, Wolf? “Ek weet nie. Ek dink die roman is gedoen. Wat ek wel oorweeg, en ek het ’n paar idees, is ’n erotiese werk wat oor genres spoel. Dit sou my aandag kon boei.”

Venter is intens bewus van die armoede wat ’n mens in die Karoo, en spesifiek op Prins Albert, aantref. “Jy is altyd baie kwaai gekonfronteer met die arm mense in hierdie dorp, want jy leef naby hulle. Ek het ook so ’n deeltjie daarvan ingeskryf in [Santa Gamka]. Waar ek in daai supermarktou staan, kom iemand agter jou en hy koop ’n sakkie meel en suiker en ’n brood. En dan hoor ek hoe praat hulle: Die meel het nou opgegaan en die kookolie het opgegaan – dit het alles opgegaan. Maar jý koop feta en ... jy weet ... ek sal nooit daarvan kan ontslae raak nie. Dit is ’n tipe van ’n wit skuld, of wat jy dit ook al wil noem. Of miskien is dit my Christelike opvoeding.

“Ek sal nooit van daai bewussyn ontslae kan raak nie. As ek in Australië aankom en so afklim in Sydney, dan is dit vir my ’n soort van ’n verlígting byna. Dan dink ek: kan ek net vir ’n rukkie ontsláé raak van al hierdie bagasie in Suid-Afrika en mense wat áltyd oor politiek ... dit is onvermydelik. Ek kan onthou as kind op my oupa-hulle se plaas. Ons het altyd Sondae daar gaan kuier. Dan sit ons so op die stoep. Solank as ek kan onthou, as kind, het mense in my familie oor politiek gepraat en oor die situasie in die land.”

Hy onthou hoe mense dáái tyd al gesê het hulle weet nie wat van hierdie land gaan word nie. En mense sê dit nou steeds. “Weet jy wat? Ek dink dit gaan nooit verander nie. Dit is eintlik ook op ’n manier vir my die fassinasie. Dit is hierdie land van wonders en wonde. Breyten het dit vreeslik mooi gesê: Dis ’n psigologiese hel in ’n fisieke paradys,” sê Eben aan Murray La Vita.

La Vita praat met Eben oor hoe die tekstuur van ’n gemeenskap in taal tot uiting kom. “Dit is wat my aangetrek het na Prins Albert, en dit is nou al so te sê tot niet deur die gentrifikasie in hierdie dorp. Dit is ’n tweesnydende swaard. Want aan die een kant het dit natuurlik enorme ekonomiese ontwikkeling gebring. Maar daardie mense wat dáái woorde ge-coin het en die pragtige dialek van daai mense wat in die laat sestigerjare uit Gamkaskloof, uit Die Hel uit ... hulle het byna almal Prins Albert toe getrek. Daar is baie min van daardie mense oor. Die inkommers, van wie ek ook een is, maar verál die Engelse inkommers, kan nie daardie dialek verstaan nie. Hulle kan ook nie hóór dat dit ’n anderse Afrikaans is as wat ék byvoorbeeld praat nie.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, skryf Eben (Beeld, 17 Julie 2000): “Vrydae ná bobbejaanskool het my ma ons met die stofpad uitgery plaas toe. Die hitte op die bonnet en op die bossieveld was so fel dat die skape en die klippe en die hemel spierwit geword het. As ons gelukkig was, het ons boonop ’n stofstorm raak gery. Dan het visuele ervaring van die wit hitte gestaak. Net fynstof in neusgate en oorskulpe, selfs binne-in die kar, om my mee besig te hou.

“Ek sê gelukkig, want dertig jaar later én op ’n ander kontinent het van daardie stof en klippe en witwarm hitte slegs ’n nostalgiese bekoring oorgebly.

“En so kon ek dus maklik die stof-hitte beruik en betas toe ek hierdie sin in Bruno Schulz se The Street of Crocodiles (die Engelse vertaling [van die oorspronklike Poolse Sklepy cynamonowe – Kaneelwinkels]) lees: ‘Market Square was empty and white-hot, swept by hot winds like a biblical desert.’

“Hierdie dun boekie van dié Poolse skrywer (1892–1942), hy het slegs twee boeke geskryf, reken ek onder een van my tien bestes. Schulz was ’n sielige alleenloper op sy dorpie Drohobycz, deesdae deel van Rusland. Van die kleinburgerlikheid en die verstikkende roetine en die geestelike leegheid, die sprinkane en stofstrate en Cinnamon Shops alkant van die markplaas het Bruno Schulz ’n poëtiese herskepping gemaak.

“Die primêre persoonlikheid en inspirasie agter hierdie herskepping was Schulz se vader. ‘Only now do I understand the lonely hero who alone waged war against the fathomless, elemental boredom that strangled the city (Drohobycz). Without any support, without recognition on our part, that strangest of men was defending the lost cause of poetry.’

“Twee ander faktore dra by tot die misterie en romantiek, ek weifel nie om dit te sê, van Schulz as skrywer en kleindorpenaar. Op ’n sekere Novemberdag, 1942, stap hy terug huis toe, brood onder die arm, toe ’n Gestapo-offisier en self bewonderaar van Schulz se kuns, hom aansien vir die verkeerde persoon en die skrywer gevolglik doodskiet.

“Kafkiaans, en gepas daarby. Want Schulz het gedurende sy kort lewe op vaal Drohobycz dit ook reggekry om Die verhoor van Kafka in Pools te vertaal. En ja, Schulz se magiese, soms sado-masochistiese, tekeninge wat ek eers gedurende my eerste besoek aan Pole volkome ontdek het.

“‘We were inclined to underrate the value of his sovereign magic, which saved us from the lethargy of empty days and nights,’ skryf Bruno Schulz oor sy vader. Vir my is dit van toepassing op sy eie prosa.”

Daar is baie ander boeke wat ’n beduidende invloed op Eben uitgeoefen het, maar vir hom het al JM Coetzee se vroeëre werke ’n vromende invloed op sy skryfwerk gehad. "His storytelling, his outsider characters, the implied reference to classical works in his stories, his mastering of rhythm and tone and above all, his sparsity: every single word counts." ("Working wirh words")

Vir Vrouekeur wou Jacomien van Niekerk by Eben weet hoe hy in staat is om sy aanvoeling vir Afrikaans te behou en so goed in Afrikaans te skryf as hy feitlik net Engels hoor. Vir hom is dit maklik, sê Eben, aangesien hy by die taal hou waarin dit vir hom die maklikste is om die storie te vertel. "Ek probeer byhou, hou woorde en uitdrukkings by in my private woordeboek, kyk of ek iets nuuts daarmee kan maak, byvoorbeeld die lang, dralende sinne waarmee Mattheüs homself uitdruk, dis ’n nuwe ding vir my daardie. As ek in Engels skryf, en ek maak soms so, kom die storie nie vanself nie. Die hart en bloed, die grein en grint van ’n karakter: Hoe dit voel as jy pas aan die dooie hand van jou vader gevat het, kom uit in Afrikaans."

Van Niekerk het in haar onderhoud aan Eben gevra wat hy die meeste geniet wanneer hy in Suid-Afrika is en wat hy die langste sal onthou van sy boektoer met Wolf, Wolf.

"My betrokkenheid by elke situasie, by die mense en op hul beurt, hul betrokkenheid by my. Die varsheid van ervarings, visueel of hoe ook al, juis omdat ek nie elke dag hier rondloop nie. En die geborgenheid wat kom met dié dat ek met soveel dinge intiem bekend is. In Bloemfontein het my goeie vriendin, ’n boorling van die stad kan jy maar sê, my gehelp om in ’n liederlike, baie bedrywige, effens riskante, maar tegelykertyd vriendelike buurt tussen die hoofposkantoor en die stasie ’n tradisionele Lesotho-kombers te gaan koop. Senna Morena, 90% wol, 10% katoen. Snoesig soos lamsore. Daardie kombers was my vrypas op alle lughawens totdat ek die lug in is terug hierheen. Werkers en reisigers oral het dit erken, geëien as iets van hulle, iets sags en innigs en dierbaars. Hulle wou dit graag met my deel. Ek kon dit met hulle deel. Só het ek die land verlaat: verheugd en ontroerd." (Vrouekeur)

Hoe maak ’n mens tyd om te skryf?

  • "Die obsessie. Ek raak obsessief met ’n storie. Op reis of in die kleinhuisie of selfs as ek ’n koolkop van die rak af lig, kry ek idees wat tot daardie storie behoort. By die huis skryf ek die vars idee op ’n kaartjie en plaas dit terug op sy plek in die boks. As ek die gedagte nie dadelik neerskryf nie, vergeet ek dit. En as ek nie obsessief oor die storie is nie, vervaag hy. 
  • "Die prioriteit. Ek máák tyd om aan my storie te werk. Soms word daar van my vereis om my plig na te kom: te kook of ’n brief te skryf, ’n verjaardagoproep te maak of ’n depressiewe mens te gaan besoek, maar ek bly by my prioriteit. Dis selfsugtig, maar die enigste manier hoe ek iets aan lesers kan teruggee.
  • "Vernuwing. Ek probéér om elke storie nuut te maak. Te sorg dat elke sin wat ek skryf, nuut voorkom, ten minste vir myself. Ek moet myself bly boei, anders tap al die lewe uit my skryfwerk uit."

Met die verskyning van Groen soos die hemel daarbo in 2017 palm Eben in 2018 die WA Hofmeyr-prys vir die vyfde maal in. Venter meen dat hierdie prys, wat die eerste maal in 1954 toegeken is, ’n belangrike plek in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde het.

Hy sê aan AJ Opperman dat dit ’n baie lekker prys is om te kry: "Nie noodwendig baie geld nie, maar dit het ’n bepaalde waarde. Dit is ’n goue eier, of ’n veertjie" (Beeld, 16 Junie 2018).

Eben het nooit daaraan gedink dat Groen soos die hemel daarbo bekroon sou word nie, aangesien die inhoud daarvan, volgens hom, ietwat "onder die belt" is.

Volgens Opperman verken Eben in hierdie roman "moderne seksualiteit, intimiteit en identiteit". Eben sê self hieroor dat hy gewoonlik in sy romans onderwerpe van ’n polemiese aard aanpak, maar dat hy hierdie maal besluit het om hom op seksualiteit toe te spits: "Ek wou dit een keer só benader, en nou sal ek nie weer nie. Dit is ook die boek waarop ek die meeste lesersreaksie ontvang het. Ook vroue het aan my geskryf dat hulle kan identifiseer daarmee omdat dit so universeel is. Baie jong mans het ook met my gekorrespondeer. Hulle wou die gesprek tussen die terapeut en die protagonis (wat deurgaans in die boek gevoer word) eintlik voortsit. Daar is ’n openlikheid aan die inhoud van die boek."

Eben verduidelik verder aan Murray La Vita (Die Burger, 1 September 2017) dat Groen soos die hemel daarbo ’n ontginning is van veral manlike seksualiteit "tot in die fynste besonderhede en ek wou dit juis so gedetailleerd beskryf, die verskillende seksuele ervarings, om uiteindelik by die motief van Simon Avend, hoofkarakter van die roman. te kom.

"Dis ’n uitdaging om seks te beskryf. Ek het my woorde reg probeer kies en my sinskonstruksies want ek wou nie dat dit klink soos Loslyf nie. Ek wou nie dat dit enigsins ’n pornografiese of selfs ’n sagte pornografiese inslag hê nie. Ek wou eerder die skoonheid van hierdie liggaam tot liggaam ervaring probeer na vore bring met al die woorde wat ek kon vind ...

"Dit is ’n boek wat mense geneig gaan wees om as outobiografies te lees en ek dink op ’n manier is ál my boeke tóg outobiografies, maar ek fiksionaliseer dan."

Die eerste manuskrip van Groen soos die hemel daarbo was in Engels en dit was die eerste maal dat Eben ’n roman in Engels probeer skryf het. Hoewel dit aan die begin moeilik gegaan het, het hy tóg na ’n ruk gevoel dat hy dit onder die knie het.

"Met Engels, en hulle geweldige woordeskat, het ek gevoel ek kan meer afstand kry in die seksuele tonele juis omdat dit nié in my eie taal is nie. Maar dan in Afrikaans word dit dan natuurlik iets anders; dit word ’n skepping op sy eie.

"Dit het vir my gevoel asof ek myself soms bietjie moes témper in die Afrikaans anders het dit vir my byna krú geword. Ek dink omdat ons eintlik in Afrikaans nie sóveel tekste het nie .... Daar is mense soos Koos Prinsloo; daar is ’n hele klomp mense wat dit wél ontgin het in Afrikaans, maar nie tot die mate waar dit in Engels al úitgeskryf is nie.

"Soms het ek aksies of handelinge ómskryf vir Afrikaans eerder as ’n sogenaamde direkte vertaling. Soms klink die woorde vir byvoorbeeld die manlike geslagsdele in Afrikaans vir my net te krú om dit in Afrikaans neer te skryf. So dan het ek op ’n manier ’n woordskepping gemaak of die woord verdubbel of miskien selfs nog die Engelse woord te gebruik en dit dan te koppel aan ’n Afrikaanse woord."

Omdat daar altyd die moontlikheid bestaan dat sy skryfloopbaan in ’n groef kan verval, probeer Eben voortdurend om te vernuwe – nie net vir sy lesers nie, maar ook om sy skryfloopbaan vir homself interessant te maak en te hou, sê hy aan La Vita.

"So ek het probeer om die vorm van die roman so bietjie te verskuif en nié net ’n storie te vertel van Simon Avend wat in een seksuele ervaring binne een stad na die volgende gaan nie. Ek wou iets meer gelaagd doen sodat dit tegelykertyd gelees kan word as ’n tipe reisverhaal met al die elemente van hierdie verskillende plekke waar hy homself bevind soos Tokio en Bali en Den Haag en Istanboel. En dat dit ook iets bring oor die vorm of stand van terapie deesdae. [Eben self is “een van daardie rare skepsels” wat nog nooit self in terapie was nie – ET.] En dan die gedetailleerde beskrywings van sommige van die seksuele ervarings."

Oor die titel, Groen soos die hemel daarbo, vertel Eben aan La Vita dat dit dui op die onuitdrukbaarheid van die seksuele handeling.

"Dat dit uiteindelik iets is wat gebeur tussen twee liggame en dis waar die taal plaasvind. Maar as dit kom by die uitdrukking van hierdie intimiteit in woorde dan raak dit ... dis onmoontlik, jy kan nie. Simon besef dit heel aan die einde."

Eben het verder gesê: "Jy kán dit eenvoudig net nie doen nie, dit maak nie saak hoe ... al skryf jy ook die pragtigste, mees sensuele taal soos Jean Genet, uiteindelik as jy dit dan ervaar het soos Simon dit in die boek ervaar het, dan is dit iets wat jy nié volledig in woorde kan uitdruk nie. Dit is ’n lyftaal.

"En dit is waarop die titel slaan. Die Xhosa-mense kan nie hééltemal sê wat blou is nie. Die nááste waaraan hulle kan kom, is om te sê dis groen soos die hemel daarbo. En dit is die essensie van die onuitdrukbaarheid van die seksuele handeling. Jy dink jy kan ... en ek het ook my taal so sensueel moontlik probeer maak, maar dan skiet dit nog steeds te kort."

Willie Burger skryf in Vrouekeur (3 November 2017): "Seks, begeerte, intimiteit en die implikasies daarvan vir identiteit is belangrik deur Venter se hele oeuvre, (...) maar in Groen soos die hemel daarbo is dit onverbloem die sentrale fokus."

As ’n mens die verhaal saamvat, klink dit soos al die clichés nie net uit Venter se werk nie, maar ook uit baie ander skrywers uit Suid-Afrika se stories: Simon, ’n seun uit die platteland, gaan na Australië om weg te kom van die patriargale apartheidsregime. Hy het heelwat seksuele ondervindinge met mans waar hy hom ook al bevind. Hy besoek ’n sielkundige, dr Spiteri, en beskryf sy ervarings aan haar, maar vertel terselfdertyd ook van sy kinderdae op die plaas.

Hy moet dan na Suid-Afrika om sy ma op haar sterfbed te gaan besoek en om te probeer vrede maak met dit wat agter hom lê en met mense van wie hy nie hou nie, maar met wie hy tog ’n band van liefde het.

Burger gaan voort: "Soos dikwels in Eben Venter se romans lyk die verhaal dus na ’n opstapeling van clichés (...) Maar ... Hierdie is ’n Eben Venter-roman en daarom moet ’n mens nie te haastig oordeel nie. Venter doen veel meer met hierdie bekende gegewe as waaraan ’n mens naastenby in ’n kort bespreking kan laat reg geskied.

"Eerstens is dit meesleurend vertel: die beskrywings van die uiteenlopende ruimtes (...) word met ’n fyn oog, oor en neus vertel. Die sensuele beskrywings van die omgewings en geregte trek ’n mens in ’n wêreld van sensoriese belewenis in. Die seks word nooit op ’n manier beskryf wat ’n mens laat wonder waar jy die boek vir die Bad Sex Award kan benoem nie, omdat die fokus eerder op die ervarings en gedagtes as op handelinge val. Tweedens is die filosofiese onderbou sterk genoeg om ’n diep verkenning van menslike seksualiteit moontlik te maak.

"Die roman gaan oor ’n integrering van ’n mens se verlede met jou hede in ’n voortgaande proses. Dit is ’n ondersoek van seks vir suiwer genot, vir opwinding, vir troos, vir intimiteit en ook liefde. Uiteindelik blyk dit dat seks ’n mens heeltemal kan verander, dat dit ’n mens op ’n sekere vlak van intimiteit met ’n ander kan bring waar die grens tussen self en ander opgehef kan raak en wat jou aspekte van ’n ander en van jouself laat ontdek, nie omdat dit altyd reeds iewers bestaan het nie, maar daar tot stand kom.

"Só ’n ervaring kan ’n mens help om uiteenlopende aspekte van jouself te integreer, jou selfvertroue gee en van ’n obsessie met seks genees."

Deur Simon se besoeke aan dr Spiteri verkry die verhaal sy struktuur, volgens Jean Meiring in Beeld van 28 Augustus 2017.

"In elke hoofstuk ontplooi een van Simon se skunnige avonture (...). Daarna word ’n optekening geliasseer van sy opvolgbesoek aan dr Spiteri."

Die vertellings van Simon se seksuele avonture word in die eerste persoon geskryf, terwyl die besoeke aan die terapeut deur ’n alsiende derdepersoon vertel word.

"Hierdie patroon verleen gou aan die boek ’n ritme – soos ’n hart wat klop. Op elke erg persoonlike stuwing bloed volg afplatting en nabetragting. Maar uit die staanspoor is dr Spiteri meer as net ’n slim verhaaltegniek. Voetjie vir voetjie tree sy ook as karakter na vore. Die los drade van haar onbereikbare pasiënt word gaandeweg op verrassende wyse in die skering en inslag van haar eie lewe ingeweef. (...)

"So groen soos die hemel daarbo is Venter se mees gewaagde boek. Dis haas onmoontlik om te kategoriseer. Dis ’n bietjie reisverhaal, ’n tikkie psigo-joernaal; dis tegelykertyd ’n bundel kortverhale én n episodiese roman. Daar is duidelik strepe outobiografie, en heelwat fiksionalisering.

"En deur dit als skemer die sonderlinge stem van ’n romansier wat enig is in Afrikaans. Daardie stem praat ’n taal wat moeilik is om vas te pen. Dit is ontstemmend én verkwikkend. Dit praat die Afrikaans van ’n wêreldburger, wat boertig van toorts praat en dikwels die werkwoord vlie (sonder afkappingsteken) gebruik.

"Tuis het Simon ’n stoepkooi. Daar's tooigoed en sierjuwele en kortemetters. Borsteheuwels stry teen ’n slungelkêrel. Daar's sprake van ’n tregterding en spookbloekoms. Hier en daar tree vreemde segswyses en elke dan en wan ’n nederlandisme verfrissend in gelid.

"En deur die hele vertelling trek ’n rare sinestesie, wat reeds deur die titel gesuggereer word. Of dit nou ’n klein dood is wat Simon beleef, die heffing wat ’n pil in die hand werk of een van die beproewinge van elke dag, daar is kleur in elke asemteug.

"’n Palet van nagklubpers, ryppruim, ylblou, bleikgroen en stofswart – so wyd soos Venter se verbeelding."

Frederick J Botha (Rapport, 3 September 2017) is van mening dat Eben Venter met Groen soos die hemel daarbo nie nuwe Afrikaanse lesers sal bykry nie, maar dat die verhaal doelbewus gerig is op ’n oorsese gehoor wat vryer denke oor seks het. "Aanhangers van Venter se skryfwerk sal egter nie teleurgestel word nie en sal opnuut besin oor Venter se (dikwels) onderwaardeerde posisie in die Afrikaanse literatuur."

Op LitNet vat Dewald Koen sy resensie-essay as volg saam: "Groen soos die hemel daarbo is ’n komplekse teks met sterk outobiografiese kodes tussen die reëls versteek. Venter se vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit en identiteit vorm die kern van Simon Avend se karakter. Simon se deurlopende soeke na wat manlikheid vir hom persoonlik behels en beteken word op interessante wyse deur middel van die reismotief verken. Die wisselwerking tussen Simon en sy terapeut, dr Jo Spiteri, verleen aan die leser spreekwoordelike toegang tot Simon se denke in sy poging om sin te maak van sy talle seksuele ervarings.

“Venter se fyn waarnemingsvermoë is ’n aanslag op die sintuie. Soos ’n goeie reisskrywer slaag hy daarin om die omgewing waarin die karakter hom bevind, telkens deeglik en op amper poëtiese wyse te beskryf. Geen besonderhede ontbreek nie en die leser voel deurentyd asof hy/sy saam met Simon reis. Venter se onberispelike aandag aan besonderhede verleen aan dié roman ’n amper poëtiese element.

“Alhoewel hierdie roman in die geheel geslaagd is, is dit nie Venter se beste roman nie. Dit val in dieselfde kategorie as My simpatie, Cerise (1999). Beide romans vertel ’n interessante storie en is volop aan intriges, maar daardie 'Venter magic' is nie vir my hier teenwoordig nie. Vergeleke met vorige romans soos Ek stamel ek sterwe (1996), Horrelpoot (2006), Santa Gamka (2009) en Wolf, Wolf (2013) het Groen soos die hemel daarbo nie daarin geslaag om my deurentyd te boei nie. Met tye het ek die gevoel gekry dat daar ’n kliniese afstand tussen die skrywer en die teks bestaan het – hetsy as gevolg van die feit dat die teks uit Engels in Afrikaans vertaal is en/of dat die skrywer te hard probeer het om die seksuele aspekte in die roman af te water vir ’n meer konserwatiewe Suid-Afrikaanse leserspubliek. Maar ten spyte van sekere bedenkinge sal Venter-aanhangers Groen soos die hemel daarbo koop én lees." 

Eben was tydens die onderhoud met La Vita (2017) besig met ’n verhandeling vir sy doktorsgraad aan die Universiteit van Queensland in Australië, en een van die onderwerpe wat hy in sy kritiese komponent onder die loep neem, is die onmoontlikheid om die seksuele handeling in woorde om te sit. Die Engelse weergawe van Groen is die skeppende komponent en ’n ander onderwerp van die kritiese afdeling is die aspekte van wat gebeur as ’n skrywer self sy boek vertaal.

In Rapport van 24 September 2017 vertel Eben dat hy drie maande pal agter sy rekenaar gesit het om Green as the sky above neer te pen. Maar steeds het hy gevoel dat hy nie ontslae kon raak van die Afrikaanse toon nie. Lynda Gilfillan, sy Engelse eindredakteur, wat van Suid-Afrika afkomstig is, was egter tevrede daarmee.

Hierdie Afrikaanse toon wat te bespeur was in sy Engelse verhaal, bied aan die "vertaler" twee vertalingsmetodes. "Die eerste een is foreignisation: Die skrywer vertaal of transponeer die storie in Engels met behoud van die Afrikaanse toon en stel die Engelse leser bekend aan Afrikaansklinkende woorde en stelwyse. Jy vat as ’t ware die leser op reis na ’n ander, vreemde taal.

"Die tweede – komplementerende – vertaalmetode heet domestication: Hier bring die skrywer-vertaler die storie huis toe. Die Engels is so Engels as wat kan kom, en die leser, boek op die skoot op ’n bank in Hyde Park, hoor wit Engelse swane, de laaste een die eiendom van die koningin, en die murmeling van sagte Engelse waterstrome.

"Aangesien ek onder die matras uitgekom het en van alles wil gebruik maak, op die regte tyd en regte manier, natuurlik, het ek albei dié vertaalmetodes gebruik. Dit het altyd afgehang van die betrokke passasie, van die aard van die storietjie wat ek wou beskrywe of transporteer. Eers toe ek by die sesde of sewende proef van Green as the sky above gekom het, het ek die storie in Afrikaans vertaal.

"Die Afrikaanse en Engelse stories, bewerk en getransporteer, staan albei op eie bene. Die Ierse skrywer (en welbekende selfvertaler) Samuel Beckett het gesê selfvertalings moet as oorspronklike skryfwerk beskou word. Kwel jou nie oor wat die oorspronklike en wat die vertalings is nie. Wanneer die leserontvangs van die boek ter sprake is, is die aard van elke weergawe dié van ’n oorspronklike."

Publikasies

Publikasie

Witblitz

Publikasiedatum

1986

ISBN

0947046070 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Foxtrot van die vleiseters

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624032051 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1994

Vertalings

  • Duits, vertaal deur Stefanie Schäfer, 1996
  • Nederlands, vertaal deur Riet de Jong-Goossens, 2002

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek stamel, ek sterwe

Publikasiedatum

  • 1996
  • 1999
  • 2005 (klassieke uitgawe)

ISBN

  • 1874901511 (sb)
  • 079580010X (sb)
  • 0624042723 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1997

Vertalings

  • Nederlands, vertaal deur Riet de Jong-Goossens, 1998
  • Engels, vertaal deur Luke Stubbs, 2006

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My simpatie, Cerise

Publikasiedatum

1999

ISBN

0795800045 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twaalf

Publikasiedatum

2000

ISBN

0795800126 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Begeerte

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624041603 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 2004

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Horrelpoot

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044629 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels, vertaal deur Luke Stubbs 2008

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Santa Gamka

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048138 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • M-Net Letterkundeprys in Afrikaanse kategorie 2010
  • WA Hofmeyr-prys 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brouhaha: verstommings, naakstudies en wenresepte

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624049043 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Vertellings en sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wolf, wolf

Publikasiedatum

2013

ISBN

  • 9780624054993 (sb)
  • 9780624055006 (e-boek) 

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

kykNET-Rapport Boekprys vir fiksie 2014

Vertalings

Engels, vertaal deur Michiel Heyns, 2013

 

 

Publikasie

Groen soos die hemel daarbo

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780624082613 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels, Green as the sky is blue, 2018, vertaal deur die skrywer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 ’n Keur van artikels oor en deur Eben Venter beskikbaar op die internet:

Artikels deur Eben Venter beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Eben Venter (1954–) appeared first on LitNet.

Malene Breytenbach (1948–)

$
0
0

Gebore en getoë

Malene Breytenbach is op 1 September 1948 op Port Shepstone gebore. Haar pa is op Greyton gebore en toe sy pa dood is, het die gesin na Stellenbosch getrek. Daar het haar pa aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer. Dit was swaar jare en hy kon nie universiteit toe gaan nie, met die gevolg dat hy saam met sy suster se man in die Oos-Kaap gaan boer het.

Malene se oupa van moederskant het naby Matatiele geboer. Daar het Malene se ma en pa mekaar ontmoet en is hulle getroud.

Malene vertel aan LitNet: “Daardie jare was die kolonies aan die ontwikkel. Mense het die indruk gehad dat daar eindelose geleenthede vir avontuurlustige mense was wat graag pioniers wou wees en daardie lande wou tem en help ontwikkel het. My pa was een van die hoopvolles en die enigste van sy familie wat buite Suid-Afrika na die noorde en wel na die ou Suid-Rhodesië (later Zimbabwe) wou gaan. Na ’n paar omswerwinge (en ’n amperse malaria-dood) het hy in Gwelo (vandag Gweru) te lande gekom en my ma, my ouer suster, Menanteau, en ek (nog ’n baba) per trein laat kom waar ons nog by Ouma in Natal gebly het.”

Malene se pa het by die Dairy Marketing Board gewerk, maar hy wou eintlik net boer. Die naaste wat hy daaraan gekom het, was ’n klein plasie noord van Gwelo waar hy met wisselende sukses en met verskillende gewasse en vee geboer het.

Maar toe sy weer sien, het hulle weer in hulle huis op die dorp gebly. “Die dorpshuis, met sy groot tuin, lekker bure, en my beste vriendin wat langsaan woon, was ’n gesellige plek en naby skole. My herinneringe is goed, maar kinders is nie altyd bewus van hulle ouers se probleme as hulle self meestal gelukkige kinderjare beleef het nie.”

Malene onthou die plasie waar hulle vir ’n paar jaar gebly het, as ’n towerplek, hoewel hulle daar altyd bewus was van gevaar wat gedreig het. Die huis was ’n koloniale ou kasarm met gewels, die spook van ’n vorige eienaar wat selfmoord gepleeg het (het haar ma gesweer), ’n enorme tuin, visdam, plaasdam, boorde, honde, katte, hoenders, ’n wye verskeidenheid voëls, wilde diere en wilde werkers.

“Daar het mense naweke in hulle compound gefuif en gerumoer en tromme geslaan. Dit het van kleintyd af ’n gevoel van onheil gegee, wat my bygebly het selfs nadat ons teruggetrek het dorp toe en ek die skoolkadette se tromme gehoor het. Ons tuinier is eendag in hegtenis geneem vir die moord op vyf mense. My pa is amper deur ’n dronk werker met ’n mes gesteek. Dit was wilde dae daardie en my ma het in vrees gelewe. In Rhodesië het onluste en politieke onrus toegeneem en dit het ’n wanklank veroorsaak in kinderjare wat meesal gelukkig was.” (aan LitNet)

Malene se eerste skool was Cecil John Rhodes Primary en sy is met die aanvang van haar hoërskooljare na die Chaplin High School. Sy het gesing, was kunstig en het goed gevaar op skool en het altyd goeie punte vir opstelle gekry. “Die mense van Britse afkoms het hulleself as superieur beskou en ’n Afrikaner moes presteer om vir hulle te kon vinger wys. Tot my verbasing het ek ’n landswye opstelkompetisie gewen.”

Baie van haar skoolmaats het in die latere Bosoorlog geveg en een was prominent in die gevreesde Selous Scouts.

Die Engelse skole was besonder goeie skole met onderwysers wat sy tot vandag met dankbaarheid onthou. Daar het sy haar liefde vir lees ontwikkel. Sy het net Engelse boeke gelees. Al Afrikaans wat sy gelees het, was koerante, Brandwag en Die Huisgenoot wat haar ouers uit Suid-Afrika bestel het en wat per opgerolde pos aangekom het. Hulle het darem ook na die Afrikaanse radiostasie geluister. Die meeste van Malene se vriende was Engels, maar sy het darem een goeie Afrikaanse vriendin, Magda, gehad.

“My ouers het Afrikaanse en Engelse vriende gehad. As daar Afrikaanse ‘kultuuraande’ was, het ons dit bygewoon. Ek het in konserte opgetree en solo gesing. (Dit het my ’n hopelose ambisie gegee om operasangeres te word!) Op skool het ek ook hoofrolletjies in verhoogopvoerings gehad; een was ’n heks. Toe verbeel ek my die verhoog is my voorland.”

Maar die gesin se tydjie in Suid-Rhodesië het in die middel van Malene se hoërskooljare, toe sy veertien was, tot ’n einde gekom toe haar ouers besluit het om na Suid-Afrika terug te keer en in Pretoria te gaan woon, waar hulle albei familie gehad het. Haar beste vriendinne, Mary en Magda, was ’n groot verlies toe sy as tiener geëmigreer het. Sy het egter al die jare met Mary kontak behou en hulle het oor en weer gekuier, selfs tydens die oorlog, totdat Mary oorlede is.

In Pretoria is Malene na die Afrikaanse Hoër Meisieskool omdat Frans en Latyn twee van haar vakke was. Sy moes verafrikaans en sy kon nie eens in Afrikaans spel nie. Haar wiskunde was agter en sy moes dit in matriek as vak laat vaar. “Dit was ’n goeie skool met uitstekende, aanmoedigende onnies, maar dit was ’n meisieskool, wat vreemd was. Ek het gevind dat ek nou in ’n groot dam swem waar kompetisie veel sterker is. Watter aanpassing! Ek was darem nie ongelukkig nie en het met die skoolwerk ingehaal en vriende gemaak, maar na Gwelo was dit veel minder lekker en ek het baie terugverlang.” Malene matrikuleer in 1965.

Sy vertel verder: “In my vorige, Engelse skool het ek agtergekom ek doen goed met skryfwerk, maar in AHM moes ek myself Afrikaans leer. Hoe béter kon ek dit doen as om ander skrywers te lees, te sien hoe hulle die taal inmekaarsit? Die verskil in my lewe is gemaak deur toegewyde onderwysers; dat hulle hul op élke leerling toegespits het. Niemand was net ’n nommer nie.” (aan LitNet)

Sy vertel aan Vrouekeur (8 Februarie 2019) sy het half Engels gevoel. "Ons was immigrante, anders as die gevestigde Pretorianers, en die aanpassing was moeilik. Ek moes ook baie vinnig leer om goed in Afrikaans te spel. Dis van baie lees wat my Afrikaans soveel verbeter het. Een boek wat ek onthou omdat dit my so diep getref het, was Die swerfjare van Poppie Nongena."

Verdere studie en werk

Na skool is Malene na die Universiteit van Pretoria, waar sy haar BA-graad met hoofvakke Frans en Engels verwerf. Op universiteit ontmoet sy ’n jong dosent in Volkekunde, Willie Breytenbach. Sy het Volkekunde uit nuuskierigheid geloop en later is sy en Willie getroud. Hy oorreed haar om haar BA Honneurs-graad in Engels te verwerf, terwyl hy sy MA en doktorsgraad een na die ander met lof behaal.

In Pretoria, ná universiteit, werk Malene as vertaler by onder meer Krygkor en beleef baie besige sosiale jare saam met haar man. Hulle dogter, Karen (hulle enigste kind), is in 1981 gebore. In 2012 het Willie en Malene ’n blondekop kleindogter, Mia, ryker geword wat net soos haar ma lyk. Om ouma te wees, is vir Malene ’n baie groot voorreg.

In 1985 verhuis die gesin na Stellenbosch, waar Willie hoof van die Departement van Afrikastudie word. Malene maak kind groot en pas aan by die nuwe omgewing. Sy was aanvanklik oortuig dat sy te dom is vir nagraadse studies, maar begin tog weer te studeer aan die Universiteit  Stellenbosch. Sy behaal ’n honneurs- en magistergraad, asook haar DPhil in joernalistiek, ’n MA in Ou Nabye-Oosterse Studie en ’n MPhil in Antieke Studie. Malene behaal haar honneursgraad in joernalistiek met lof, en was een van die top-presteerders in haar klas, hoewel sy die oudste van die 24 studente in die klas was. Haar diepte-projek het oor Malawi se probleme onder die oppervlak, soos VIGS, armoede en politieke onderstrominge gehandel.

Oor hierdie nagraadse studie (waarvoor sy eers gedink sy is te "dom") sê Malene aan Vrouekeur (8 September 2019) dat mens nie jouself moet onderskat nie. "As jy regtig wil, kan jy. Dit het vir my so lekker geword om al daardie studies aan te pak, ek kon nie ophou nie. Mens word soveel meer belese en ryper soos dit aangaan. Mens kan baie in ’n dag inpas, jy moet net jou tyd reg bestee."

Sy werk ook by die universiteit, van openbare betrekkinge tot kommunikasie tot die Stellenbosch Stigting. Sy besef teen daardie tyd dat dit makliker word om te studeer namate ’n mens meer belese, wyser en ryper raak.

Terwyl Malene studeer het, was sy te besig om fiksie te skryf, maar die oomblik toe haar studies klaar was, begin sy skryf en debuteer met ’n liefdesverhaal, Palmyra herleef, wat in 2005 by LAPA Uitgewers se Treffer-Boekklub verskyn. Dit is geskryf na aanleiding van haar MPhil in Antieke Studie toe Malene ’n tesis oor die fassinerende koningin Zenobia van Palmyra gedoen het. Dit is ook gebaseer op haar ondervinding om as ouer vrou weer te studeer, en sy kon die kennis en ondervinding wat sy opgedoen het, in haar studies oor die Ou Nabye-Ooste vir hierdie roman inspan.

Sy trek toe los en skryf binne vier jaar negentien liefdesverhale vir LAPA en nog ’n aantal vir NB Uitgewers. Aanvanklik dink sy dat sy nie in Afrikaans sal kan skryf nie, maar sy doen haar “vakleerlingskap” met ’n tweetalige woordeboek altyd langs haar.

Malene skryf maklik etlike romanses elke jaar. Haar uitgewers was versigtig hiervoor en het voorgestel dat sy ’n skuilnaam gebruik. In 2008 het sy twee romanses onder die naam Marilyn Bennett geskryf.

Terwyl sy voltyds werk, skryf Malene oor naweke en in die aande, maar einde 2008 tree sy af en toe kan sy werk wanneer en waar sy wil. “Ek het altyd iets wat ek skryf en in my kop dwaal die stories altyd rond. Ek is van plan om, as my kop hou, die een roman na die ander te skryf. Willie, my man, is geduldig en hy kan hom altyd besig hou. Hy moedig my nog altyd aan en voel beslis nie bedreig deur my skryfwerk nie, want hy is nog altyd ’n presteerder en is tans emeritus professor.” (aan LitNet)

Hulle dogter Karen het ook joernalistiek geswot, soos haar ma, en joernalis geword, en het ook politieke wetenskap geswot, soos haar pa. Karen se ervarings as joernalis is vir Malene ’n bron van inligting en inspirasie, want tydens haar skooljare was sy alewig aan die studeer en was sy altyd bang sy skeep Karen af. “Ongelukkig is ek verbete en obsessief en as ek ’n ding aanpak, is ek soos ’n Rottweiler wat nie los nie. Sy was darem al op universiteit toe ek begin fiksie skryf.”

Malene se redakteur, Madri Victor, moedig haar toe aan om ’n roman te skryf – iets wat so ’n bietjie meer om die lyf het as die liefdesverhaal of romanses. Zimbabwe was nog altyd in haar hart en kop en sy verafsku Mugabe en wat met die land gebeur het. Veral wat die plaasonteienings betref. “Ek moes daaroor skryf. Zimbabwe is vir my sinoniem met verwoesting en pyn.” (Beeld, 2 Augustus 2009). Toe skryf sy Gister is ’n ver land wat in 2009 by Tafelberg verskyn het.

Gister is ’n ver land vertel die verhaal van Maureen Sneddon Barnard wat in 1955 inderhaas uit Kenia moes vlug toe die Mau Mau hulle plaas aanval en haar man en tienjarige seun vermoor. Sy en haar dogter gaan woon in Rhodesië en haar tweede huwelik is weer met ’n boer. Hy is egter in die Bosoorlog oorlede. En toe in 2003 ontvang sy ’n uitsettingsbevel en moet die 79-jarige vrou dadelik haar familieplaas in Zimbabwe verlaat.

Melanie, Maureen se 40-jarige kleindogter, en haar oom Dawid is na Zimbabwe om Maureen en haar dogter, Elizabeth (Melanie se ma) te gaan haal en na Pretoria te neem. Die eerste vier hoofstukke word vanuit Melanie se perspektief vertel.

Vanaf hoofstuk 5 is Maureen die verteller. En hier word dagboeke, koerantknipsels en dokumente veral in terugflitse gebruik om die storie te vertel. Maureen se storie word teruggeneem na haar ouma, wat ’n verpleegster tydens die Anglo-Boereoorlog was. Ook die politieke onrus wat aangaande toeneem, eers in Kenia en later veral die Rhodesiese oorlog van 1972 tot 1980, wat nie net liggaamlike letsels nie, maar ook geestelike letsels laat, word goed vertel.

Vir Stoffel Cilliers (Beeld, 12 Augustus 2009) is Maureen ’n sterk persoonlikheid wat die leser nie sommer sal vergeet nie. Haar dogter, Elizabeth, daarenteen, “dra oorlog in haar saam, soos ’n virus” (p 69). Vir Cilliers bly die grootsheid van Afrika ’n tema van hierdie uiters realistiese, aktuele roman. Hy beskou die roman as ’n besonder fyn studie in verhoudinge.

“Nie slegs tussen mans en vroue nie, maar ook tussen meerderes en minderes, tussen swart en wit, tussen vyandige vegtendes, tussen buitelugmense en fynbesnaardes. (...) Uitstekende navorsing is gedoen oor Kenia en Zimbabwe. Die natuur, die mense en hul kultuur word in fyn besonderhede beskryf. ’n Nuttige kaart en woordelys dra by tot beter begrip. Die outentieke politieke gebeure wat die agtergrond vorm, maak die roman oortuigend. (...) ’n Vlot vertelstyl, oortuigende karakterbeelding en natuurlike dialoog dra by om hierdie stimulerende roman met sy dokumentêre inslag ’n aangename leeservaring te maak. Dit is ’n stewige, eietydse roman, doelgerig en insiggewend geskryf.”

Siska Martin (Volksblad, 4 Augustus 2009) beskryf Gister is ’n ver land as ’n roman wat vertel van liefde, verlies, waagmoed en hardkoppigheid. “Breytenbach skryf uit eerstehandse ondervinding oor die lewe in die ou Rhodesië, nog voor Ian Smith se onafhanklikheidsverklaring. Sy skryf met begrip vir dié wat daar gebore is en daar grootgeword het se liefde vir dié mooi land. Ja, Gister is ’n ver land is fiksie, maar die 352 blaaie van dié slapbandboek kan maklik die verhaal van menige Zimbabwiër vertel wat alles verloor het en gelukkig was om elders ’n heenkome te vind.”

Mariana Loots skryf in Die Burger (datum onbekend) dat dit ’n hoogs leesbare roman is, hoewel dit plek-plek sterk op stereotipes steun.

Oor die vreesaanjaende situasies in Zimbabwe en die Mau Mau-aanval in Kenia wat Malene so lewensgetrou beskryf, vertel sy (Beeld, 2 Augustus 2009): “Mense het uit die lande in die noorde wat uhuru gekry het, suid gevlug. My ouers het iewers pamflette gekry oor die gruweldade van die Mau Mau. Ons het bure gehad met ’n dogter wat Frans magtig was. Sy het gaan tolk vir Franssprekende vlugtelinge – nonne wat verkrag is, hul ore afgesny. Die bedreiging was altyd daar. ’n Kind in my klas se huis is afgebrand en hulle moes vlug. ’n Meisie van Eldoret in Kenia se ouers het haar na ons skool gestuur vir veiligheid. Ek ken die geskiedenis van Afrika.”

Malene voel dat Afrika al te veel van sy mense opgekou en uitgespoeg het (Beeld, 2 Augustus 2009). “Afrika is vol geweld, haat en konflik. In my boek het ek genoem dat mense gedink het hulle kan dit besit, maar eintlik het hulle net tydelik ’n stuk geil aarde vervreem van ander wat dit ook begeer en wat dit met geweld weer van hulle vervreem het. ’n Mens verlang terug, maar na skimme van die werklikheid wat verby is. Wat nou Zimbabwe is, is ’n tragedie. Afrika maak my soms bang. Teen die dramatiese historiese en politieke agtergrond van die boek bly jou fokus egter op die universele dinge waarmee mense hulle besig hou. Die lewe gaan voort te midde van die groot gebeure. Die media vertel ons wat besig is om óm ons te gebeur, ons praat met mekaar daaroor, ons vrees, maar ons hoop die ergste sal nie met ons gebeur nie. Jy leef gedurig in spanning. Almal sien die golwe van politieke onrus kom, maar wat kan jy doen om dit te keer?”

Suzanne Bezuidenhout skryf in haar resensie op LitNet Gister is ’n ver land ’n baie aktuele roman is wat Afrika in al sy grootsheid en gewelddadigheid vir die leser teken. Die hooftemas is die tydelikheid van besit, liefde, verlies en die verwerking van trauma. “Dié reis is nie net ’n verkenning van die Afrika-ruimte nie, maar tegelyk ’n kartering van Afrika se geskiedenis van geweld as gevolg van die drang om te besit en te heers. Deur Maureen se herinneringe aan haar verlede in Kenia en die destydse Rhodesië word die leser op ’n meer persoonlike reis geneem. Haar herinneringe word gekenmerk deur die ervaring van verlies. Deur Maureen se verlies van grond én van geliefdes word die tydelikheid en kortstondigheid van alle besit, ook die lewe, beklemtoon. (...) Met Gister is ’n ver land slaag Breytenbach daarin om ’n aktuele en boeiende roman te skryf. Afrika word uitgebeeld as ’n ruimte van skoonheid en geweld, van hoop en verlies, en ’n ruimte wat só veel kan gee, maar ook kan neem. In die roman lewer Breytenbach kommentaar op die drang om te besit en te heers. Die leser besef dat wanneer dit by Afrika en sy geskiedenis kom, alle besit en heerskappy bloot ’n tydelike vergunning is.”

’n Afrikaanse roman oor Zimbabwe deur ’n wit vrou is iets raars. Hieroor sê Malene (Beeld, 2 Augustus 2009) dat Afrikaans en Engels ewe swaar by haar weeg. Haar ouerhuis was Afrikaans en sy is met ’n Afrikaanse man getroud. Maar in haar jeug het sy meestal Engels gepraat, skoolgegaan en gestudeer. In Gister is ’n ver land is die karakters Engels en die inligting wat sy nagevors het, was Engels. Haar karakters praat hopelik soos die mense destyds in Zimbabwe gepraat het, of soos sy dit onthou.

In 2010 word Malene se volgende roman, Pluimprinse, gepubliseer. Die verhaal handel oor Olivia Bailey wat uit Kaapstad vlug nadat sy in haar huis aangerand is. Sy gaan na haar ouma in Oudtshoorn wat sy glad nie ken nie. Haar ma is deur haar ortodoks-Joodse pa onterf toe sy met ’n nie-Jood, Olivia se pa, weggeloop het.

Nadat Olivia op Oudtshoorn aangekom het, loop sy op die voetspore van een van haar voorsate, Sarah, wat, soos Olivia se ma, met die “verkeerde” man deurmekaar geraak het. Tydens haar soektog in die ou goed en met haar ouma se vertellings, kom sy op baie interessante inligting oor Sarah en haar tydgenote af. Die pluimpaleise van daardie jare wat tekens van die rykdom van die eienaars as, is die middelpunt van die verhaal. Die leser leer nie net die Oudtshoorn van vandag beter ken nie, maar ook die dorp se volstruisveer-geskiedenis. Daar word ook meer vertel van die destydse Joodse gemeenskap van Oudtshoorn. Die volstruisveerhandel was hulle belangrikste sakebedryf. Die probleme wat die Jode daardie jare ondervind het, word ook uitgebeeld. Die argitektuur van Charles Bullock en Johannes Egbertus Vixseboxse, die twee argitekte wat hoofsaaklike betrokke was by die bou van die pluimpaleise, word aan die leser voorgestel.

Volgens Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 24 Julie 2010) is daar ’n paar dingetjies wat pla, soos die herhaaldelike verwysing na die feit dat Olivia se oë verskillende kleure is en die herhaaldelike verwysing na verval, maar dit is ’n heel leesbare boek wat jou lus maak om Oudtshoorn, en sy pluimpaleise, van naderby te gaan beleef.

Ronel Nel (Beeld, 19 Julie 2010) beskou Malene as ’n uithaler-storieverteller wat ’n era blootlê wat inherent aan die erfenis van die Wes-Kaap is. “Sy pendel gemaklik tussen die huidige en die verlede, en sodoende word die vergelyking van die toe en die nou soomloos omarm. Die pas van die boek taan soms, juis vanweë die lang haltes by die geskiedenis van die vervloë Oudtshoorn, en dit laat die leser voel dat hy nie heeltemal met ’n roman te doen het nie. As ’n stuk gedramatiseerde geskiedskrywing is dit ’n kragtoer.”

Corrie Geldenhuys (Volksblad, 6 Augustus 2010) het dieselfde voorbehoude as Nieuwoudt, maar beskou Pluimprinse as bevredigend en met tye boeiende leesstof oor die Oudtshoorn van weleer en vandag.

Riette Rust (Die Burger blogs) skryf: “Die historiese blik op Oudtshoorn is die sterkste element in hierdie roman. Breytenbach het die gegewens goed  na gevors, ook dié van die  argitekte  Charles Bullock en Johannes  Vixseboxse. Een van die  mooiste beskry wings is dié van die pluimpaleise wat hulle gebou het.  Breytenbach skryf: ‘Soos elegante  bejaardes staan hulle daar, in valletjies en kant, bepluim en gekorset.’ Wanneer die gloriedae van die  volstruisbedryf taan en geboue verval, verval verhoudings ook en sterf  familielede. Die mens is so anders as die volstruis ‘wat die vermoë (het) om (weens die oerkrag in hom) deur voor- en teëspoed te oorleef,’ is die boodskap.

“Soos die geskiedenis vir Olivia begin lewe, begin haar helings proses. Op 35 vind sy liefde en erf sy ook Courland House, haar  ouma se imposante tuiste met sy koper- en baldakyn-beddens.

“Hierdie roman sorg vir ’n paar  interessante kinkels rondom  identiteit: Is Abie, die man wat deur Olivia se  ouma aangestel is om haar kleindogter op te pas, werklik ’n  uitvaagsel? En wat is die waarheid  agter Michel le Riche se vriendskap met ’n pragtige meisie? Olivia vind algaande meer oor haar eie identiteit uit. Van die  begin af weet die leser Olivia het heterochronia – een blou en een groen oog, en is effe  heldersiende. Maar haar oumagrootjie Sarah se verlede, wat ’n huwelik met Piotr Ussakov, ’n Russiese prins en  wêreldklas  pianis, insluit, hou ver rassende nuus vir Olivia in.

“Die roman kom ongelukkig ’n sterk spanningslyn kort, dit boei nie  deuren tyd nie. Daarby word die leser her haaldelik en pertinent herinner dat die roman oor verval handel. Nie al die karakters is ewe  volrond nie. Paul Wannenburg, ouma Rebekah se dokter, is darem net te standvastig en goed. Abie wat ‘sy  rebelsheid soos ’n kledingstuk dra’ is veel interessanter. So ook die elegante Rebekah wat nog haar eie motor  bestuur en sedert haar man se dood nie meer kosjer leef nie. Soms is die taalgebruik outyds en werk die dialoog nie heeltemal nie.

“Kritiek daar gelaat, as jy van ge drama tiseerde geskiedenis hou, ’n  sagte plekkie vir Oudtshoorn het en nie lus het vir hogere letter kunde nie, lees  gerus hierdie storie.”

Volgens Gerard Scholtz (Die Burger, 5 Julie 2010) vloei Malene se skryfstyl, die storielyne en tydspronge in Pluimprinse maklik. Hy wil weet of dit ook haar ervaring was tydens die skryfproses – dat die skrywe en die storie maklik gekom het. “Die roman het anders verloop, maar ek het ’n groot deel oorgeskryf. Ek wou vertel hoe sekere families (Afrikaners, Jode en Engelse) tydens Oudtshoorn se bloeitydperk en in die hede op mekaar inwerk. Wat was die (soms) tragiese gevolge van die voorgeslagte se doen en late? In die tweede weergawe het Olivia my hoofkarakter in die hede geword en het ek die argitekte wat die herehuise geskep het, as karakters ingebring. Sarah, die ander hoofkarakter, uit die verlede het ook ’n meer definitiewe persoonlikheid gekry. Daarna het dit gevloei.”

Oor die boek se omslag en titel wat deur Michiel Botha ontwerp is, vertel Malene aan Gerard Scholtz (Die Burger, 5 Julie 2010) dat Botha ook verantwoordelik was vir die omslag van Gister is ’n ver land. “Hy het dit só goed gedoen dat ek gevra het hy moet my volgende roman se omslag ook ontwerp. Met Pluimprinse het hy die belle époque, die boom van Oudtshoorn wonderlik, onverbeterlik uitgebeeld in die art nouveau-styl wat die argitekte destyds in die ontwerp van die pluimpaleise gebruik het. Hy het die volstruise, die ou Rolls-Royce en die regte lettertipe gebruik. Dit was onmiddellik vir my aanvaarbaar.”

Malene het voordat sy begin skryf het, heelwat navorsing gedoen oor die fassinerende geskiedenis van die gemeenskap van Oudtshoorn en die volstruisboerdery. Op Oudtshoorn het sy in die ou pluimpaleis, Foster’s Manor, gaan bly en die dorpe en die CP Nel-museum goed deurgegaan om sodoende meer oor Charles Bullock uit te vind. Sy het gelukkig een foto van hom opgespoor en kon hom dus goed beskryf.

Malene was vanaf 2011 tot 2013 baie bedrywig. In 2011 verskyn Bloedgrond, haar roman oor grondeise en plaasmoord, asook een van haar mediese romanses. Die roman, Eenoogkoning, word in 2012 by Naledi uitgegee en nog ’n mediese romanse en in 2013 verskyn haar eerste publikasie by Rosslyn Pers, Kennis is mag en nog twee mediese romanses.

Die hooftema in Bloedgrond is die kwessie van grondeise. Die Malaza-familie stel ’n grondeis in op twee plase in Mpumalanga in die Nieu-Skotland-distrik. ’n Joernalis, Erin Bell, bevind haar, sonder dat sy daarvoor gevra het, vierkantig binne-in die situasie. Haar broer boer op die een plaas, Misty, dit is duidelik dat die familie verwag dat Erin se man, wat ’n advokaat is en van wie sy besig is om te skei, met sy regsagtergrond hulle moet help. Die ander plaas, Annendale, is die Buchanans s’n. Die gesin is jare vantevore daar vermoor, onder andere ook Erin se jeugliefde James. Die enigste lid van die Buchanan-gesin wat die plaasmoord vrygespring het, is Andrew, ’n oud-recce. Erin word met hierdie verlede gekonfronteer.

Andrew dra verseker ’n wrok in hom rond en dit is ooglopend dat die Malazas ook nog wrokkigheid in hulle binneste ronddra, al werk hulle lankal nie meer op die plase nie, maar leiers wat in hulle gemeenskap agting wegdra. Dan is daar ook die boeregemeenskap se vrese, intimidasie en ’n boer wat vermoor word. Dit alles maak die lewe vir polisie-superintendent Elsie Redelinghuys baie moeilik.

Vir Madri Victor (Rapport, 1 Julie 2011)druk Bloedgrond die vinger op ’n seer plek in die Afrikaner se psige. “Plaasmoorde en grondeise is besonder sensitiewe onderwerpe. In dié verhaal is die fokus op die posisie van die boere teen wie grondeise ingestel word en dié wat ná ’n plaasmoord met onverwerkte emosies agterbly.

“Die Buchanans se lot word in grusame detail beskryf. Breytenbach skram doelbewus nie weg van die ongemaklike nie; sy wíl die leser skok en konfronteer met die geweld, die sinloosheid daarvan en die uitwerking wat plaasmoorde het op mense wat klaarblyklik op die rand van so ’n gebeurtenis staan – ongeag of jy die wit boer of swart plaasarbeider is.”

Victor meen dat die navorsing deeglik en deurdag is; “daar is heelwat inligting oor die regsaspekte met grond eise. Ook feitelike inligting oor die geskiedenis van die streek word verskaf. Soos met haar vorige romans bly die leser deurentyd bewus van die uitwerking wat gebeure uit die geskiedenis op individue het (konsessies wat deur die Swazi-koning weggegee is, die Boereoorlog en die ontheemding van boere in Rhodesië word betrek). Juis daardeur kry die leser ’n beter begrip vir die optrede van sowel dié teen wie eise ingestel word as die grondeiser, al lê die simpatie duidelik nie by laasgenoemde nie.

“Ondanks besonder ingewikkelde en komplekse temas, word Bloedgrond nooit ’n swaarmoe dige, neerdrukkende roman nie. Daarvoor sorg die goeie skeut liefde waarom Breytenbach bekend is, en karakters soos supt Redelinghuis, wat altyd haar braairooster en ’n sixpack in haar kattebak saamry – net ingeval.”

Op LitNet skryf Riana Scheepers in haar resensie dat die eerste deel se ligte aanslag en styl van die liefdesverhaal-genre haar ’n bietjie verwar het. Sy was ook ongemaklik met die roman. “Wat aanvanklik as Erin se verhaal begin het, nadat sy haar man Ferdie en sy wulpse sekretaresse alte hups op sy lessenaar betrap het, het al gou iets van ’n hutspot geword met ’n menigte karakters en narratiewe style. Van die erotiese beroeringe van Marianne en haar ‘heerlike, opwindende geheim’, die soeterige liefdespad van Erin en Mac (193), en die werklik onsinnige opmerkings van Erin (wat byvoorbeeld ná die moord op haar broer sê: ‘Plaasmoorde raak nou régtig onrusbarend’, 195), tot die onthutsende weergawe van geweld soos dit deur Sylvia beleef word met die aanhoor van ’n Solidariteit-program oor plaasmoorde op die radio. Die gruwels van marteling, verkragting en moord word in grafiese besonderhede aan die leser gebied. Gooi nou nog hierby in die kwasigewetenswroeginge van Alfred Malaza, ’n paar tienerkinders se klein emosionele en seksuele oprispings, én die macho-bravade van ’n gewese recce, en ek voel soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smarties-boks.

“Die roman sou beslis gebaat het by een karakter se perspektief; dit sou koherensie gegee het aan die gebeure en dit in ’n herkenbare genre geplaas het. Want uiteindelik is Bloedgrond nie óf liefdesverhaal óf speurverhaal, of avontuurverhaal nie. Na my gevoel kan die swaarwigtige tema nie gravitas verleen aan die liefdesverhaal nie, en het die romantiese styl min bygedra tot die uitbouing van die komplekse, sentrale tema. En tog, te midde van my ongemak oor ’n konsekwente styl, is daar ook werklik opwindende momente, soos Erin se insiggewende historiese dokument oor grondbesettings in die Oos-Transvaal (nou Mpumalanga) (95 ev). Dit is een van die werklik opwindende insette in die eerste gedeelte, wat my laat wonder of Breytenbach nie ’n soortgelyke ondersoekende joernalis-karakter in nuwe romans moet ontgin nie. Dit sal die outeur se kundigheid, kennis en styl uitstekend pas.

“Dit is eers met die aanvang van die opwindende tweede gedeelte van die roman dat dit my getref het: die struktuur wat Breytenbach aan hierdie roman gee, is soortgelyk aan die uiters suksesvolle televisiereeks Law and Order. Dit is ’n program waarna ek graag kyk, veral vanweë die opwindende tweede gedeelte, waarin die regsprosesse orde in die soms rommelrige speurgedeelte skep.

"Dieselfde gebeur in Bloedgrond. Waar die eerste gedeelte gewemel het van karakters en dinge en style en onrustigheid, is Deel 2 vaartbelyn en doelgerig. Die aanbod van karakters en perspektiewe is minder, en alles gefokus op die sentrale gebeurtenis van die hofsaak en die uitwys van die skuldiges. In hierdie gedeelte het die skrywer my omgeboul: met karakters wat sprankelend ontwikkel (Elsie en Ferdie én Marianne), gebeure wat doelgerig koers kry, spanningsdrade wat stywer geknoop word met die intriges van die hofsaak, en ’n verrassende einde. Hier is Malene Breytenbach soos ’n seilskip in volle vaart, pragtig, met seile wiekend in die wind, onstuitbaar.

Bloedgrond is die rede waarom ek vermoed dat hierdie skrywer besig is om haar skrywersvisie wyer te stel, soos ek aan die begin gesê het. Ek is seker dat die volgende roman wat ek gaan lees, minder van die swiets in ’n lucky packet gaan wees; dit gaan ’n volle maaltyd wees. Met rooiwyn.”

Eenoogkoning (2012) vertel die verhaal van ’n Kaapse vrou, Salome Binnemans. Sy is die fyn opgevoede dogter van ’n parlementslid en in haar lewe leef sy deur vier oorloë: Die Boereoorlog, die oorlog in Duits-Suidwes-Afrika, die Eerste en Tweede Wêreldoorlog. Sy ontmoet in 1899 twee mans: Julian Atterbury, seun van ’n sogenaamde Randlord, en graaf Klaus von Mittelbach, kaptein in die koloniale troepe van Duits-Suidwes-Afrika. Haar pa wil graag  vir Salome getrou kry, verkieslik met ’n man met baie geld. Sy trou met Klaus en hulle gaan vestig hulle in ’n kasteel wat hy in die Namib gebou het. Die verhouding se paadjie is nie altyd so egalig nie en Salome moet verlies en verraad verwerk en ook netelige keuses maak. Klaus sterf in 1916 in die oorlog in Duitsland en Salome is terug na Suid-Afrika waar sy weer vir Julian raakloop.  Dit is ’n verhaal vol verrassende wendings.

Eenoogkoning was een van die tien finaliste in LAPA se 2011-romankompetisie.

In Sarie (5 Oktober 2012) wou Phyllis Green by Malene weet waar sy die idee vir Eenoogkoning gekry het. Malene het vertel dat vriende van haar wat in Namibië was, haar vertel het van die Duwisib-kasteel anderkant Lüderitz en van die Pruisiese baron wat dit gebou het. So is Klaus von Mittelbach gebore. “Ek het ook gewonder oor die vrou wat so ’n man na die wildernis volg, wat om sekere redes lyding en verliese ervaar, en hoe haar lewe tydens die huwelik en daarná sou verloop.”

Die oorloë en die gegewens van die oorloë is histories korrek, maar Malene se karakters wat sy tussen die ware geskiedkundige figure gesitueer het, is fiktief. Schloss Mittelbach se mense, asook Kaapzicht en Schoongezicht is ook fiktief.

Malene vertel aan Phyllis Green dat sy haar inligting hoofsaaklik in geskiedenisboeke en op die web gekry het, veral dié oor die oorloë en politieke strominge. Sy moes vanselfsprekend ook inligting kry oor Namibië se geskiedenis en aardrykskunde. En gelukkig is daar ’n boek deur Harald Nestroy oor die Duwisib-kasteel en baron Hansheinrich von Wolf beskikbaar, getiteld Duwisib, a German castle in Namibia and its master Hansheinrich von Wolf.

Kennis is mag (2013), speel af in ’n akademiese omgewing, naamlik die fiktiewe Universiteit van Utopia (wat baie raakpunte met Stellenbosch het). Die tyd waarin die roman afspeel, is die hede, met verwysing na die Suid-Afrikaanse politiek, maar die name van die universiteite is fiktief. Soos die Universiteit van Utopia waar die verhaal afspeel of die Universiteite van die Weste en van Azanië, die ander akademiese instansies waarna verwys word.

Dit begin met ’n aanhaling deur die Nobelpryswenner en diplomaat Henry Kissinger, wat ook later in die boek aangehaal word: “University politics makes me long for the simplicity of the Middle East. Academic politics are so vicious because the stakes are so low.”

Malene ken die akademiese wêreld baie goed en vir Marike van der Watt op LitNet span sy hierdie kennis goed in en kry die leser ’n goeie kykie in die ratwerk van ’n groot akademiese instelling, hoewel dit dalk effens oordrewe is as gevolg van die satiriese inslag.

Van der Watt gaan voort: “Die drama skop reeds in die openingstoneel af wanneer ’n ongeïdentifiseerde karakter ’n dreigbrief ontvang. In die volgende toneel jaag ’n motor vieruur in die oggend met skreeuende bande weg, en die volgende dag word die dinamiese en gewilde rektor, Josef Herholdt, dood aangetref in sy stoorkamer. Almal vermoed gemene spel en die polisie ondersoek ’n saak van moord. Kaptein Anna Steyn, wat al die luuksheid en oordaad van die rektorskantore as buitestander beoordeel, wonder wie voordeel kon trek uit die rektor, wat sy met ’n koning vergelyk, se dood.

“Die verhaal spring dan ’n jaar terug, toe Julia de Ville die eerste keer haar opwagting by Utopia gemaak het vir haar onderhoud vir die pos van viserektor: navorsing en internasionale betrekkinge. Die verhaal verloop dan chronologies op haar pad van onversadigbare ambisie met haar aanstelling as viserektor tot kort na die dood van die rektor. Omdat ’n mens van die begin af reeds weet dat die rektor onder suspisieuse omstandighede dood is, ontleed die leser deurentyd elke nuwe karakter en situasie om vas te stel wie die moontlike skuldige is. Maar die einde is tog onvoorspelbaar, met ’n ekstra kinkel ...

“Soos in Pluimprinse, staan die uiterlike vertoon van welvaart sentraal tot die verhaal. Welvaart dui hier op akademiese sukses en mag – nie net van die Universiteit van Utopia nie, maar ook van die karakters. Daar is luukse sportmotors, viertrekvoertuie en ’n seiljag, etes in duur restaurante, oorsese reise. Maar wanneer daar dieper gedelf word, het die universiteit, ten spyte van die oënskynlike welvaart, finansiële probleme wat aan onder andere wanbestuur toegeskryf kan word. Ook die karakters met hulle ontwerpersklere, gemanikuurde hande en perfek-gestileerde haarkapsels, versteek allerhande onheil agter die fasades van sukses en welvaart – rugstekery, jaloesie, ondergrawery, korrupsie. Verhoudings tussen verskillende rassegroepe, wat op die oog af netjies vlot, is ook nie wat dit voorgee om te wees nie. Dus ’n geval van ‘van bo blink, van onder stink’.”

Vir Van der Watt was die teks egter nie heeltemal afgerond nie. “Die omslagontwerp lyk onprofessioneel en daar is ook kwessies wat met ’n swaarder redigeerhand uitgestryk kon gewees het: die beampte en nagwag, Denver Julius, is skynbaar 24 uur per dag aan diens; Julia de Ville se vlammende rooi hare en groen oë word bykans in elke hoofstuk waarin sy figureer, gemeld; en die leser moet minstens drie keer lees van Shawn Adams se leeu-oë. Lesers wat ’n speurverhaal verwag, sal teleurgesteld wees – kaptein Anna Steyn, wat vroeg in die verhaal as fokaliseerder optree, en van wie mens dus kan verwag dat sy ’n belangrike rol in die verhaal speel, verdwyn heeltemal en verskyn eers weer aan die einde om die leierskap van die universiteit in te lig oor die resultate van die polisie se ondersoek.”

Maar as die kritiek buite rekening gelaat word, beskou Van der Watt die boek as een sonder pretensies en sy meen dat lesers wat hou van ’n storie met baie intriges, Kennis is mag sal geniet.

Op die resensie van Marike van der Watt het Wannie Carstens (ook op LitNet) as volg gereageer: “Die breë strekking daarvan, dat die boek lekker lees, is waar. Ek het dit self gelees en omdat ek self aan ’n universiteit verbonde is, dit interessant gevind en dit ook geniet sonder om iets meer verborge te soek. Ek het vir Malene laat weet sy kan die Afrikaanse David Lodge, wat bekend is oor sy boeke oor die akademiese konteks, word. Dis bloot sosiale kommentaar oor ’n fenomeen - die lewe van akademici. Malene, skryf gerus nog hiervan. Ek sal graag wil hoor hoe Julia de Ville vaar as rektor van die universiteit.”

In Rapport (17 Augustus 2013) skryf Christell Stander soos Breytenbach in Bloedgrond bloot die tema van plaasmoorde as agtergrond gebruik het vir ’n romanse, gebruik Kennis is mag ’n universiteitsmilieu om ’n storie te vertel. Daar is dele in Kennis is mag waar Julia se dialoog Stander aan Joan Hambidge se karakters in Swart koring en Die swart sluier herinner, maar dit is waar dit eindig, want van satirisering is daar nie sprake in Kennis is mag  nie. Dit is nie ’n spanningsverhaal nie en ook nie ’n romanse nie. Daar is ook geen dramatiese ontwikkeling van die ingewikkeldheid van die mens nie. Maar Stander meen dat lesers wat van Malene se boeke hou, dit tog sal geniet.

Een van Malene se verhale, “Polvye”, is opgeneem in die bundel Bloots wat in 2012 by Tafelberg uitgegee is en “Arms” is opgeneem in Skarlakenkoors (Tafelberg, 2013).

Malene is nou voltyds skrywer, maar is bang om te sê waarmee sy tans (November 2013) besig is. Maar sy het darem laat glip dat sy in die pylvak is van ’n roman oor verraad in die Boereoorlog en die reperkussies daarvan in die tagtigerjare.

In 2019 word drie e-boeke van Malene by Amazon gepubliseer. In Anderkant omdraai gaan sy terug na die land waar sy ’n groot deel van haar kinderjare deurgebring het: Zimbabawe: "Die Rhodesiese/Zimbabwiese oorlog is lankal verby en die land is sedert 1980 onafhanklik. Robert Mugabe is steeds president. Die regerende Zanu-party word deur die Movement for Democratic Change (MDC) geopponeer. Die ekonomie het agteruitgegaan en baie mense het die land verlaat. Die mense wat gebly het voer dikwels ’n stryd om oorlewing.

"’n Vrou keer terug na die mense en plaas van haar jeug. Erge ontnugtering wag op haar. Haar broer, ’n oud-Selous Scout, neem wraak vir die verlies van sy plaas.
Sy sien egter weer die man van wie sy jare gelede geskei is en neem hulle dogter om haar vervreemde pa te leer ken. In dié land vol haat, onsekerheid en spanning kan daar wel liefde, vergiffenis en versoening kom." (Amazon)

Ook in The lions and the scavengers skryf sy oor Zimbabwe, asook in Yesterday is a lost country wat al in 2012 ’n eerste uitgawe beleef het. In laasgenoemde vertel Malene die verhaal van Maureen Sneddon-Barnard wat deur die Mau-Mau uit Kenia verdryf is en haar toe in Zimbabwe gaan vestig het. Toe sy van haar plaas gedwing word, neem sy haar dagboeke en koerantknipsels saam sodat haar kinders van die moed, die risiko's, die vreugde en die verdriet kan leer. Sy het Afrika geken en liefgehad, maar haar en haar mense se voetspore in Afrika kan deur hierdie veranderinge vir ewig weggewaai word.

In ’n onderhoud met Vrouekeur vertel Malene dat sy self ’n passievolle leser en navorser is. "Ek lees van kleins af baie en as mens stories soveel geniet, kan dit jou nogal inspireer om self te probeer skryf. Hoeveel wêrelde lê nie in literatuur opgesluit nie? Dit is ontvlugting, dit is leersaam, dit verryk jou lewe," is haar mening.

Malene is baie lief vir geskiedenis en as gevolg van hierdie invloed is sy ’n baie goeie navorser. Haar mening oor geskiedenis is dat elke mens ’n verlede het wat ons gemaak het wat ons vandag is. "Historiese gebeurtenisse wat my fassineer, is die Rhodesiese Bosoorlog en die Boereoorloë, veral die tweede, die grote. Soveel verhale is daarby ingeweef. Soveel menslike drama. Ek spot altyd dat ek die geskiedenis by die hare insleep waar ek kan."

Vanaf 2014 het veertien nuwe romanses uit Malene se pen verskyn, terwyl haar gewildheid onder die lesers bewys is deurdat sewe van haar romanses ’n heruitgawe werd is. Ook is van haar verhale opgeneem in Hartklop Omnibus 1–4 met die vyfde een wat ter perse is. Een van haar verhale is ook opgeneem in Melodie Omnibus 3 met nommer 4 wat in 2019 gaan verskyn.

In ’n onderhoud met Suzette Kotzé-Myburgh op Skrywers en boeke op RSG het Malene gesels oor die verskil tussen roman en romanse. ’n Roman is langer as ’n romanse, met ’n storie wat ’n bietjie "meer om die lyf" het. ’n Roman hoef ook nie ’n gelukkige einde te hê nie, terwyl dit by ’n romanse ’n gegewe is dat die einde gelukkig moet wees. ’n Romanse is ook  meer van ’n emosionele belewenis.

Publikasies:

Publikasie

Palmyra herleef

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2014

ISBN

  • 0799334464 (hb)
  • 9780799360899 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Treffer-Boekklub
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Huis van my hart

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2015

ISBN

  • 079933541X (hb)
  • 9780799373097 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Eike-Boekklub
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Diamante in die stof

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336157 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Romanza

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die geheim van Aurora

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799336688 (hb)
  • 9780799350630 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Treffer-Boekklub
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Godin van die wingerd

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2014

ISBN

  • 0799336785 (hb)
  • 9780799360905 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Keurbiblioteek
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verskeurde hart

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799337372 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Romanza

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefste vreemdeling

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2011

ISBN

  • 978799337556 (hb)
  • 9780799350623 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Ster vir Stella

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2014

ISBN

  • 9780799337570 (hb)
  • 9780799360912 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Eike-Boekklub
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skat uit die see

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799338478 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Eike-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eiland van liefde

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799338676 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Romanza

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oase van liefde

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2014

ISBN

  • 9780799339291 (hb)
  • 9780799360929 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Safari na liefde

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2015

ISBN

  • 9780799339376 (hb)
  • 9780799373387 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Eike-Boekklub
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maak my hart gesond

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2015

ISBN

  • 9780799339536 (hb)
  • 9780799373219 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Reünie van harte

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2013

ISBN

  • 9780799340150 (hb)
  • 9780799360547 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Eike-Boekklub
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Held uit die verlede

Publikasiedatum

  • 2007
  • 2012

ISBN

  • 9780799340204 (hb)
  • 9780799357158 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Keurbiblioteek
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hoe kwesbaar die hart

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045700 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde in Venesië

Publikasiedatum

  • 2008
  • 2012

ISBN

  • 9780799340341 (hb)
  • 9780799357165 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Treffer-Boekklub
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Kasteel vir Moira

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799341041 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Romanza

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Doolhof van liefde

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799341171 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Romanza

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Intrige op Imbovali

Publikasiedatum

  • 2008
  • 2012

ISBN

  • 9780799343144 (hb)
  • 9780799357141 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Heler van skade

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046332 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hertog van die Pampas

Publikasiedatum

2008

ISBN

97806240469236 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Melodie

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In jou hande

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624047148 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gister is ’n ver land: ’n roman

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047278 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels eBoeke vir Afrika 2013

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tot die dood ons skei

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047407 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Melodie

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verbode liefde

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047841 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Melodie

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Roep van die woestynwind

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047933 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Melodie

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dokter sonder grense

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624048572 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pluimprinse

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624048251 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dokter van  ver

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624052937 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bloedgrond

Publikasiedatum

2011

ISBN

97780624052746 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eenoogkoning

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781920518271 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Yesterday is a lost country

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2019

ISBN

9780987044594 (e-book)

Uitgewers

eBooks for Africa

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartstog op see

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780624054559

Uitgewers

Tafelberg: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kennis is mag

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780992197841 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Rosslyn Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Locum vir liefde

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624057642 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eiland van drome

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624065012 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Mediese romanse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maya en die operaster

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799364798 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met die oog op liefde

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624070214 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartklop Omnibus 1. Saam met Kristel Loots en Rykie Roux

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624073949 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My redder, my beminde

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624074618 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Geheime liefde

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780624076711 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartklop Omnibus 2. Saam met Amelia Strydom en Vera Wolmarans

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780624076834 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lorna en die professor

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799379341 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Grenslose liefde

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780624079828 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Van sorg na liefde

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780624080893 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartklop Omnibus 3. Saam met Madeleine Malherbe en Rykie Roux

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780624080923 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die professor en die beterweter

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799382525 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My ster jou ster

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799388206 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlug na Santorini

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624084570 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartklop Omnibus 4. Saam met Madeleine Malherbe en Rykie Roux

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624084631 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sophia se beskermengel

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624085621 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Melodie

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In my drome

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624086246 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Huis van geheime

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799391626 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toskane roep my hart

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799393538 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Anderkant omdraai

Publikasiedatum

2019

ISBN

e-boek

Uitgewers

Amazon

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The lions and the scavengers

Publikasiedatum

2019

ISBN

e-boek

Uitgewers

Amazon

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

As Marilyn Bennett:

Publikasie

Vir liefde en vryheid

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046264 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Melodie

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar liefde vonkel

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624047056 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Malene Breytenbach beskikbaar op die internet:

Artikels deur Malene Breytenbach beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Persoonlike korrespondensie met Malene Breytenbach

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Malene Breytenbach (1948–) appeared first on LitNet.

Hans du Plessis (1945–)

$
0
0

Foto deur Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Sy volle name is Hans Georg Wilhelm. Hy is een van vier seuns, word op Silverton groot en woon die plaaslike laerskool by. Hy vertel aan Elfra Erasmus dat Silverton daardie jare ’n plattelandse dorpie was wat vir hulle as kinders ver van die stad af gevoel het.

Hans vertel aan Carla van der Spuy (Vrouekeur, 13 Januarie 2017) ietsie wat hy nog van sy eerste skooldag kan onthou: "Ek is so oud, ek onthou nie eens my matriekafskeid nie! Onthou is soos water in ’n emmer met ’n gat in, hoe verder jy loop, hoe minder water het jy. Daarom probeer ek hard om my eerste skooldag te onthou, want die emmer is al bietjie leeg. Nogtans onthou ek dat ek ’n blokkieshemp aangehad het en ’n kakiebroek wat gemaak is, nie gekoop nie. Daar was nie geld vir onsin nie en skooldrag het ons nie geken nie. Skoene was net vir Sondae.

"Ek dink ek het die myl of twee agter broer Tjaard aan deur skuins voetpaadjies gestap. As ek reg onthou, was Pa met die ou Jeep werk toe. Lekker was die eerste dag nie, want ek is toe nie in juffrou van Jaarsveld se klas nie en van al die juffrouens was sy die vriendelikste met groot oorbelle van goud en armbande wat rinkel. Hoe moes ek weet sy is die graad 2-juffrou. Dan was daar ook te veel kinders, amper 200 in die skool!"

Hy matrikuleer in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hulle moes aanvanklik met die trein hoërskool toe gaan en later met die bus, aangesien daar net ’n laerskool op Silverton was.

Hans vertel aan Erasmus (Beeld Kalender, 13 Februarie 1992) dat hy en sy broers maar soos plattelandse seuns van die vyftiger- en sestigerjare grootgeword het. “Omdat die mense op ons dorp in die algemeen maar arm was, moes ons ons ontspanning buite in die veld loop soek. Om mispels of stamvrugte of wildeperskes te soek, was deel van ons bestaan. Ek meen dat my liefde vir die natuur en ’n empatie met enige agtergestelde mens toe al bestaan het en dat dit ’n groot invloed op my skryfwerk gehad het."

Hy het nie uit ’n skryffamilie gekom nie, maar beslis uit ’n leesfamilie. Hans se ma en pa het ’n groot rol gespeel in sy grootwordjare en ook in die tipe mens wat hy geword het. “Ek het met boeke grootgeword. Hoewel ek in my laerskooljare nie ’n goeie leser was nie, het ek dit later geword.”

Hy vertel aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 22 Julie 2016) dat hy in grondstrate, veld en koppies tussen die bome en die klippe en die voëls grootgeword het. "Dit was ons enigste speelplek en jy moes kon kyk waar die stamvrugte en die wildeperskes is, jy moes ’n haas kon bekruip en jy het geweet hoe ver ’n kettie se klip trek. Dit leer ’n mens om waar te neem. Daarby kom die talent, en dit het ek sonder verdienste by die Here gekry."

Oor sy liefde vir skryf vertel hy verder aan Roberts: "Ek is nie seker hoe ek by skryf beland het nie. Maar vandat ek van skryf geweet het, wou ek skryf; nie dat ek so danig geweet het wat skryf is nie. Ek was nog op laerskool toe ek op ’n keer ’n opstellerige stukkie vir ons Voortrekkers se kampkoerantjie geskryf het. Dit kon selfs meer as vyf sinnetjies gewees het. En ek wou later oor ons bende skryf, maar dit was ongelukkig ’n geheime bende waarvan  niemand moes weet nie. Later in my hoërskooldae het ek oor skryf gedroom, opstelle geskryf en hier en daar darem ’n skaflike punt daarvoor gekry.

"Daar was van altyd af boeke in ons huis. ’n Boek was amper heilig, iets wat jy met respek en skoon hande moes hanteer. Jy het nie eens daaraan gedink om die bladsy hoek-om te vou om jou plek te hou nie."

In Huisgenoot (26 Mei 2016) vra Elna van der Merwe ’n klompie Afrikaanse skrywers watter Afrikaanse boek in hulle kinderjare ’n indruk op hulle gelaat het. Hans vertel aan haar: "Om ’n Afrikaanse boek uit my jeug te kies, is om te vra of biltong lekkerder as droëwors is. My eerste eie boek was Paultjie alleen in die wêreld, toe Patrys-hulle, die Trompies, Uile en Keurboslaan. Maar ek het ’n leser geword met Karl Kielblock se Jasper le Feuvre, want ek wou nie net soos Jasper wees nie; ek wou kon skryf, Afrikaans skryf soos dié Kielblock-ou."

Verdere studie en werk

Hans wou aanvanklik na skool ’n radio-omroeper word, het hy aan Anim van Wyk (Beeld, 13 November 2011) vertel. "Nou waar ek daaraan gekom het, moet jy my nie vra nie. Ek het nie die stem nie, maar ek het gelukkig die  looks  vir ’n radio-omroeper!" Dit was dan ook hoekom hy aanvanklik geskiedenis en Noord-Sotho as hoofvakke geneem het.

Na skool gaan Hans na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1966 sy BA-graad behaal. Hy studeer later verder aan Unisa en verwerf sy UOD (universiteitsonderwysdiploma) in 1969. Hy slaag sy BA honneurs met lof in 1970 en so ook sy MA-graad in 1972. In 1975 behaal hy sy DLitt et Phil. Na voltooiing van sy doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde word die senior beurs van die RGN in 1976 aan hom toegeken en sit hy sy studies voort aan die Harvard-universiteit in Amerika, waar hy ’n kursus onder die taalkundige Susumu Kuno volg. In Amerika studeer hy ook verder in die algemene taalwetenskap by die wêreldbekende Noam Chomsky, destydse ghoeroe op die terrein van die transformasionele generatiewe grammatika.

Na ses jaar in die onderwys (onder andere vier jaar aan die Hoërskool Evander) word Hans in 1971 aangestel as lektor in Afrikaanse taalkunde aan Unisa. Vanaf 1977 tot 1980 is hy senior lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit. In 1981 word hy professor in Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit (vandag die Noordwes-Universiteit). Sy intreerede handel oor die Afrikaanse taalkunde as besondere wetenskap en hy sê dat mense wat die taalwetenskap bemeester het sonder om die taal behoorlik te kan gebruik en te spel, nie veel vir die taal beteken nie. Hy bepleit ’n instituut vir eietydse Afrikaans aan die Potchefstroomse Universiteit, omdat ’n opname en behoud van kwynende vorme soos Griekwa-Afrikaans en Johannesburgse Afrikaans noodsaaklik is.

Hans is al sedert 1985 betrokke by skryfkursusse wat die ATKV saam met die departement Afrikaans van die Noordwes-Universiteit aanbied, en toe die universiteit in 1989 besluit om ’n skryfskool te stig, was Hans die logiese keuse om as die eerste direkteur aangestel te word. In 1990 kry hierdie skool beslag en staan dit bekend as die ATKV-skryfskool.

Hy is in 1968 getroud met Magdaleen Potgieter en die egpaar het vier seuns, Rudolph, Louis, Hansie en Tjaard.

Hans se eerste gedigte word in letterkundige tydskrifte soos  Kol  (1969) en  Tydskrif vir Letterkunde  (1978) gepubliseer. Benewens verskeie resensies in koerante en oor die SAUK, verskyn daar ook wetenskaplike artikels in onder andere Klasgids, Taalfasette, Tydskrif vir Geesteswetenskappe,   Linguistic Inquiry  en  Die Transvaler. Hans is ook die outeur van etlike taalkundige publikasies soos  Sintaksis vir eerstejaarsVariasietaalkunde  en  En nou, Afrikaans?  Saam met Dawie Steenberg is Hans die redakteur van  Skryfateljee: gesprekke oor skryfwerk, waarin bekende Afrikaanse skrywers hulle menings oor skryfwerk met lesers deel.

Buiten sy skryfwerk lewer Hans ’n belangrike bydrae om Afrikaans van sy historiese en politieke beperkinge te bevry met sy ondersoeke na die variasies van Afrikaans. In die begin van die tagtigerjare het Christo van Rensburg, toe van die Universiteit van die Vrystaat, ’n omvattende navorsingsprojek oor die Afrikaans van die Griekwas gelei. Hans was een van die medewerkers en het saam met die navorsingspan veldwerk onder die Griekwas gedoen. Hy lei ook later ’n ondersoek na die gebruik van Afrikaans in Namibië. Soms het hy alleen op ver plekke na Afrikaanse dialeksprekers gaan soek, en kon hy hoor hoe Afrikaans die taal van Afrika geword het.

Hans se eerste digbundel,  Kleinwild, word in 1978 deur HAUM gepubliseer. Hierdie bundel beklee ’n besondere plek in Hans se hart, omdat hy die oudste is en die swaarste gekry het. Hoewel Hilda Grobler in  Hoofstad  (1 Februarie 1979) die bundel nie baie goed ontvang het nie, skryf Rika Cilliers-Preller (Beeld, 12 November 1984) later: “Die soort epigrammatiese kleingedig van Hans du Plessis se voorkeur, of stemming- en natuurindrukke, vra ’n sintuig vir klank, ritme en beeldevokasie waaroor dié digter, myns insiens, wel beskik.  Kleinwild  se bekoring het daarin gesetel.”

In 1984 word sy tweede digbundel,  Gewete van glas, deur Human & Rousseau gepubliseer en hieroor sê Rika Cilliers-Preller (Beeld, 12 November 1984): “Dit is egter die digter se werkwêreld in sekere tegnieke wat die aandag opeis. Daar is die reeds genoemde pogings om te skryf soos ons praat (wat ek maar as sambreel vir verskeie prosesse gebruik), reeds in die motto geantisipeer deur die poëtiese ou vertaling deur die nuwe, spreektaalgerigte te vervang. [...] Weliswaar is die digterlike transformasies nog nie konsekwent tot poësie deurgevoer nie en al slaan die dink- en maakwerk nog deur, is [daar genoeg] aanduiding dat ene ‘Kleinhans’ (van ‘Silverton’) tog in die land van die muse bly.”

Grensgeval, Hans se eerste roman, word in 1985 deur Human & Rousseau uitgegee. Dit vertel die verhaal van ene Jan Adamse se reis deur Namibië, in die eerste plek om na die wortels van Suidwes-Afrikaans te gaan soek (hy is naamlik ’n taalkundige) en in die tweede plek om op die spoor van sy eie herkoms te kom. LS Venter (Volksblad, 22 Maart 1986) skryf "Dit is ’n alleenreis, maar Jan Adamse het tog ’n verbeelde reisgenoot, oom AE, met wie hy voortdurend in ’n soort innerlike debat gewikkel is. Die groot deug van hierdie roman lê nie in die storie of in die oorspronklikheid van die gedagte dat ’n wit Afrikaner bruin voormense het nie. [...] [D]ie deug van hierdie roman lê in sy styl. Du Plessis skryf ’n sappige en soms werklik pittige Afrikaans. Daarby het hy die vermoë om met enkele raak, beskrywende woorde ’n situasie te teken.”

In 1990 publiseer HAUM-Literêr Hans se volgende roman,  Skuiwelinge. Die roman handel oor drie Suid-Afrikaners uit totaal verskillende agtergronde, wat in ’n kamertjie in ’n parkeergarage vasgekeer word wanneer politieke geweld die stad se strate in ’n slagveld omskep. Hoewel hierdie drie mense, elkeen op sy eie manier, geweld verwerp, word hulle gesamentlik en afsonderlik slagoffers daarvan. En hoewel Barend Toerien (Die Burger, 16 Augustus 1990) meen dat die roman nie werk nie, skryf Heilna du Plooy in  Beeld  (11 Junie 1990) dat die roman sy verhaal op ’n gemaklike en eenvoudige manier vertel en dat dit vlot lees. “Maar dit het meer om die lyf as net ’n storie van mense in Suid-Afrika. [...] Hierdie roman spreek in sy aktualiteit. Die gemaklike verteltrant is toeganklik en die menslikheid van die karakters, veral in die herinneringsvlugte, bewerkstellig warmte en natuurlikheid. Die oplettende leser gaan egter veel meer as ’n storie kry en sal waarskynlik heelwat nadink oor die manier waarop kontemporêre probleme die mense van hierdie land, as individue en as groepe, raak.”

Hans se eerste jeugboek,  Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou, word in 1991 ook by HAUM-Literêr uitgegee. Hy dra die boek aan sy vier seuns op, want, sê hy aan Elfra Erasmus, hy het baie by sy seuns geleer. “Baie wat ek nou van myself as kind weet, het ek deur my seuns leer verstaan. Omdat ons ’n hegte gesin is, leer ons (hulle hopelik ook van my) baie van mekaar.”

Op ’n vraag hoekom daar destyds so min jeugboeke in Afrikaans was, antwoord Hans: "Ek raai dat ons letterkunde vir die jeug kwalik by die bendeboek verby kon kom, omdat daar te veel taboes vir ’n jeugboek was. Moet nie politiek praat nie, niks seks en kinders vloek mos nie! Ek meen ons het die jong lesers klaaglik onderskat en ons skewe beheptheid met nasionalisme het veroorsaak dat ons ons kinders in dom, wit watte verpak het. En dan, natuurlik, sou jy uit jou eie ’n leser geword het op grond van die klomp goed wat jy op skool (en universiteit) voorgeskryf gehad het?” Sy seuns se reaksie op die boek was volgens Hans verrassend goed, “maar hulle het kritiek gehad wat ek opgevolg het – ek meen tot voordeel van die boek”.

Die verhaal beeld die politieke en sosiale werklikheid van die Suid-Afrika van die vroeë 1990's uit. Thomas is ’n bruin seun wat nadat sy pa oorlede is, saam met sy ma en twee sussies in ’n kamer op die erf van die Ankers, ’n wit gesin, woon. Ook in die kamer woon sy pa se neef wat die kinders aanrand en beledig. Sy ma laat hom ook agter en al wat Thomas het om aan vas te hou, is sy vriendskap met Dirk Anker. Dirk en sy pa wend pogings aan om hom by die "blanke" skool te laat skoolgaan, maar daar is weer mense soos Hare Harmse en sy maats wat glo hy behoort nie in die skool nie.

Thomas van der Walt (Beeld, 7 Desember 1992) meen dat dit een van dié jeugboeke tot op daardie stadium in Afrikaans is. “Een van die positiewe aspekte van die boek is die lekker taalgebruik, Afrikaans, soos jong mense hom vandag praat, en soos die bruinmense van die Noordweste hom praat. Die humor in die boek spruit gewoonlik ook uit die taalgebruik voort. [...] Dit is egter ’n boek wat vir groot leesplesier sal sorg, miskien juis omdat hy so bitter eerlik is.” Gunther Pakendorf meen egter dat die roman nie heeltemal oortuig nie, omdat dit té skematies en resepmatig is.

Op versoek van die dramadepartement van die Hoërskool Pro Arte Alphen Park in Pretoria verwerk Hans in 1995  Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou  tot ’n eenakter. Dit was die eerste keer dat hy sy hand aan ’n toneelteks gewaag het. Die skool bring die stuk op die planke tydens die jaarlikse ATKV-tienertoneelkompetisie in 1995. Die beoordelaars, Lizz Meiring, Fred Steyn en Etienne Bloemhof, was só beïndruk dat hulle aan Hans die CR Swart-prys toegeken het, ’n geldprys wat jaarliks toegeken word aan ’n nuutgeskrewe eenakter wat in ’n betrokke jaar by die ATKV-tienertoneelkompetisie opgevoer word. Volgens hulle word ’n verhaal “wat kennelik behoort aan die Suid-Afrika van die onlangse verlede, met groot ekonomie vertel. Die situasie is kontemporêr; daar is konflik op meer as een vlak; die karakters, ofskoon stereotipes, is aanvaarbaar en die dialoog oortuig feitlik deurgaans. Dit is duidelik dat die skrywer baie tyd daaraan bestee het om die teks te visualiseer, en die praktiese uitvoerbaarheid daarvan deurgaans in gedagte te hou” (Beeld, 7 Januarie 1997).

Hans se volgende jeugboek is  Bakgat, en wat van my?  wat in 1995 deur Human & Rousseau uitgegee is. Hoewel baie van die karakters wat in  Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou  ook in hierdie verhaal optree, kan dit op sy eie gelees word. Herrie is nou die hoofkarakter en hy moet na Johannesburg gaan om sy matriek te maak. Elsabe Steenberg (Beeld, 10 Julie 1995) skryf: "Hiergaan dit om die geestelike groei wat Herrie, baie jare emosioneel verwaarloos deur sy ouers, in die eerste persoon beleef; dit word moontlik deur verhoudings met veral sy pa en die meisietjie Loelien. Die werk is ’n besonderse jeugwerk."

In 1996 verskyn  Ditsem, Dawid!  by Human & Rousseau. Lindie Visser sit die verhaal in  Die Burger  van 19 Maart 1997 as volg uiteen: "Al die bestanddele van ’n klassieke avontuurverhaal is in dié jeugverhaal aanwesig: ’n probleem wat opgelos moet word, volop aksie, helde en skurke, ’n intrige wat opwerk na ’n klimaks en die ontknoping waar die 'goeie' die 'bose' oorwin. Dawid word uitgenooi na die Bosveldplaas van die pa van Ernesta, ’n meisie op wie Dawid sy oog het. Daar word hulle by wildstropery betrek. Die dialoog is die loslit Afrikaans van die tiener en dit lees lekker. Sonder om moraliserend te klink, word die etiek van jag bespreek en word die natuurskoon en diere met liefde en deernis beskryf."

Tydens die KKNK in 1997 word Hans se eerste Griekwadrama,  Broerse, opgevoer. Dit word ook beskou as die eerste drama in Griekwa-Afrikaans, hoewel daar al in ander dramas karakters was wat in hul eie dialek gepraat het. Hans vertel aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 5 Maart 1997): “Broerse  is ’n storie van ’n gesin wat deur kleurvooroordeel uitmekaar geruk word; die storie van broers wat weerskante van die kleurlyn beland, en dan deur ’n kleurbehepte gemeenskap van mekaar af weggehou word. En tussen die twee staan ’n mooi meisie – ’n mooi meisie wat ook nie altyd haar kies gekies het nie. ’n Liefdesverhaal eintlik, maar hoe het mense lief as hulle nie altyd toegelaat word om lief te hê soos wat die liefde dit wil hê nie?” Dit was Salome Combrink se idee dat Hans ’n drama vir die KKNK moes skryf wat iets moet “weergee van die diep wonders van Afrikaans en iets van die mense wat in die ou Suid-Afrika die agterspeen gehad en nou, in die nuwe ene, ook nie juis ’n voorspeen in die mond het nie.” Ben Kruger was die regisseur en die akteurs Anthony Wilson, James Winkler en Jackie Davids.

Saam met Annette du Plessis ontvang Hans in 1997 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Afrikaanse dokumentêre televisieprogramme vir die program  Afrikaans: ons eie mixed bredie.

In 1999 het Hans met die komponis Wilhelm Joubert kragte saamgesnoer om ’n besonderse stuk Suid-Afrikaanse geskiedenis na teatergangers te bring. Dit is  Liefde en oorlog, ’n kabaret/musiekspel oor die Anglo-Boereoorlog, wat tydens die Aardklop Kunstefees in 1999 opgevoer is. Die produksie is spesiaal vir Aardklop se hooffees ontwikkel. Daar was die klanke van viool en saksofoon wat in teenstelling is met die visuele beeld van ’n outydse Mauser en ’n moderne waarheid-en-versoeningsverhoor. Die akteurs was At Botha, Heidi Bouwer en André-Jacques van der Merwe. Die regisseur was Alwyn Swart.

Reeds in Hans se bundel  Gewete van glas  verskyn daar gedigte in Griekwa-Afrikaans. In 1999 publiseer hy self ’n boekie,  Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt. Dit is die voorloper van  Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte  wat in 2001 by LAPA Uitgewers verskyn. Hierdie bundel is die wenner van die Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika se algemeen-Christelike kategorie. Dit word die Afrikaanse boek waarvan tot op daardie stadium die meeste eksemplare in die eerste jaar – nagenoeg 38 000 – verkoop is. Hans vertel aan Gert Coetzee (Die Burger, 23 April 2002) dat hy een aand, tydens Christo van Rensburg se navorsingsprojek, in die hotel op Douglas gesit en wonder het hoe Psalm 23 in Griekwa-Afrikaans sou klink. Tydens sy navorsing het Hans besef dat die Griekwas “iets ongeloofliks” in hulle het. “Hulle het ’n kinderlike geloof – amper ’n Europese toegewydheid – in God, maar terselfdertyd leef oer-Afrika se mite in hulle. Dié paradoks in hulle maak van hulle oer-Afrikane, én dat die woord vlerke kry hoe verder dit loop.”

Hans het verder verduidelik: "My Griekwagedigte is nie vertalings of omdigtings nie, maar ’n transponering op drie vlakke. Eerstens is dit ’n transponering in tipiese Griekwa-Afrikaans met ’n vertaler wat eenvoudige taal praat en woorde soos ‘kinderse’ en ‘goeterse’ gebruik. [...] Dit is ook ’n transponering van die omgewing. Dawid slaan sy oë op na die berge, maar in die Kalahari is nie berge nie, ook nie ’n dal van doodskaduwee nie. Daar is wel koppe en strate (tussen die duine). Dawid kan ook nie onder ’n olyfboom sit nie, maar onder ’n kameeldoringboom. En die aarde is net so groot soos Prieska. Laastens is dit ’n transponering op godsdiensvlak. Dawid beskryf die stryd tussen goed en boos deur beelde van oorlog en siekte. Vir die Griekwa is onheil die beerlou, waterslang, son en droogte.”

Hans meen dat die sukses van die boek waarskynlik te danke is aan ’n mengsel van die bekende en die onbekende (soos Psalm 121 in onbekende metafore) en omdat die eenvoud van die mense in poësie oorloop. “Ook is daar iets geesteliks in die bundel. Baie mense het aan [my] gesê hulle het nie meer die Bybel gelees nie, totdat hulle dié bundel onder oë gekry het.”

Hy verduidelik aan Anim van Wyk (Volksblad, 31 Desember 2011) dat hy met die Griekwapsalms vir homself gesê het dat dit baie is soos om in ’n sepie te speel. "Dis al waarvoor mense jou onthou! Ek wil so graag hê hulle moet oor die ander goed praat, maar dit is altyd so. En dit wás ’n reuse-sukses. Ek dink daar is baie meer genade as talent by daai hele ding ..."

Wium van Zyl skryf in sy resensie (Die Burger, 16 Julie 2001) dat GR von Wielligh in 1925 gesê het: “Hul taal is ongetwyfeld die laagste vorm wat Afrikaans bereik het.” Van Zyl skryf verder: “Die bundel bied egter spanne leesplesier en ’n nuwe ervaring van die rykdom van die Afrikaanse streektaal, sowel as van die literêre skatte van die Bybel en Psalmboek. Dat Afrikaanse digters en taalkundiges vandag aangetrokke voel tot die Griekwataal, bevestig dat Von Wielligh se optiek ver agter ons lê. Hierdie bewonderaars is egter steeds nie-Griekwas, iets wat ’n ligte nasmaak laat: van ’n eens trotse kultuur waarmee nou as kleurryke, onskadelike folklore omgegaan word.” Cecile Cilliers (Beeld, 14 Mei 2001) beskou veral Du Plessis se hantering van die psalms as “meesterlik” en sê dat daar in hierdie bundel “’n weelde van woord en mens opgesluit” lê.

Hans vertel aan Gerda Dullaart (Beeld, 5 Mei 2001): "Innie skylte vannie Jirre  vang die romantiek van eenvoud vas op die manier waarop sterre, doringbome, veldheuning en bokke ingespan word om groot geestesgoed te sê. Daar is ’n onmeetlikheid, ’n wyd- en woestheid nie net in die landskap en in die Heer se goedheid nie, maar ook in die intense gevoelens wat gedig word.” Hans voel ook dat hy aansluiting gevind het by die Griekwabenadering tot geloof: dat ’n mens kinderlik afhanklik van God is.

Innie skylte van die Jirre  het Paulette van Heerden so geïnspireer dat sy ’n unieke reeks linne met uittreksels uit die psalms daarop geborduur, die lig laat sien het. Griqua Linen word vanuit haar huis in Scarborough in die Kaapse Skiereiland bedryf. Die reeks bestaan uit duvetoortreksels met bypassende kussingslope in wit katoenbatis, geborduur in goud of steenkool.

Randall Wicomb toonset Hans se Griekwapsalms en bied landswyd konserte aan, met groot sukses. Randall se CD’s is ook suksesvol.

Hans se volgende twee bundels is op dieselfde lees geskoei as  Innie skylte vannie JirreBoegoe vannie liefde: Griekwahooglied  (2002) en  Hie neffens my  (2003) word ook albei by LAPA gepubliseer. In ’n onderhoud met Elise Tempelhoff (Beeld, 25 September 2002) vertel Hans dat Randall Wicomb hom gevra het om net een liefdesgedig in Griekwa-Afrikaans te vertaal. “Dis toe dat ek deur die Bybel blaai en op Hooglied 8 afkom. Ek het onmiddellik geweet Hooglied roep om in Griekwa-Afrikaans vertaal te word. Die erotiek en die mistiek van die liefde moes na die Kalahari gebring word.” Hans het Hooglied woord vir woord in die idioom van die Griekwas oorgeskryf, sonder om iets by te voeg of weg te laat. Hy meen dat Hooglied ’n liefdesgedig is waarin die man en vrou hul ekstase oor mekaar uitspreek. “Sommige teoloë meen dis ’n allegorie wat die verhouding tussen die kerk en Christus uitspel. Dit mag so wees, maar liefde is tog Godgegewe. Daarom hoort dit in die Bybel.”

Hy erken teenoor Ronél van Oort dat hy nog nooit soveel navorsing en moeite met ’n boek gedoen het soos vir  Boegoe  nie en dat hy nog nooit so hard gewerk het nie. “Magdaleen, my vrou, het aanvanklik die manuskrip gelees en gesê die liefde is mistiek en  Boegoe  het dit nie. Sy was reg, en ek het gaan oorskryf.  Boegoe  is meer literêr gesofistikeerd as  Innie skylte vannie Jirre, maar is nie ontoeganklik nie.”

Hans vertel aan Elise Tempelhoff dat toe hy ’n eksemplaar van die bundel vir een van die Griekwakapteins geneem het, die man daaruit gelees het en uitgeroep het: "Maar dis dan in ons Afrikaans!”

Cecile Cilliers skryf in  Beeld  (4 November 2002) oor  Boegoe vannie liefde: "Hierdie samevoeging van ’n liefdesverhaal van ongeveer 2 000 jaar gelede met ou Griekwagebruike, maar dan geplaas binne ’n moderne opset, val nie vreemd op nie, maar skep ’n dinamiese spanning. Alledaagse beelde word afgewissel met liriese gedeeltes van uitsonderlike musikaliteit en digterlikheid. [...] Dit sou maklik wees om te sê dat Hans du Plessis op die rug van Griekwa-Afrikaans ry om die gedigte so bekoorlik te maak. En miskien is dit gedeeltelik waar, want veral met hardop lees word mens verlei deur die ritmes van die tongval. Maar dit is nie hele waarheid nie. Wat sowel opset as raamwerk betref, is hier ’n digter aan die werk. Elke woord is op sy plek, en die oorspronklike Hooglied word (sonder verlies van respek vir die bron) omgeswaai om in die raamwerk van ’n eie verhaal te pas. Selfs die mees uiteenlopende stof word ten volle geïntegreer, onder meer met die gebruik van herhalings of herhaalde gedigte in ietwat veranderde vorm.”

Hans se rubrieke wat oor die jare in veral in die  Potchefstroom Herald  asook in ander koerante en tydskrifte verskyn het, word in 2004 deur LAPA uitgegee onder die titel  Splinters: ’n keur uit rubrieke. Vir Gretel Wybenga (Beeld, 13 Desember 2004) is rubriekskryf die een genre wat Hans baie goed pas. Hy is ’n “bobaas-oorreder, boonop geseën met ’n gladde tong. En hy kén al die tegnieke.”

Na ’n stilte van negentien jaar in die genre van die roman verskyn Hans se roman  Verbrande paradys  in 2009 by LAPA Uitgewers. Willem Pretorius (Die Burger, 9 Maart 2009) vertel: "Die verhaal speel in die Vredefortkoepel af waar die Koepelaars onrustig woon asof hulle bewus is daarvan dat daar geen beskerming vir hulle teen die noodlot is nie. Die verhaal gaan oor Sybrand Venter wat baie vinnig moet grootword wanneer sy pa tragies sterf; sy broer Henro, wat goed kan 'weld', maar wie se hyser voor die boonste verdieping stop; en Andries Spogter, die atleet." Pretorius beskou die roman as ’n lekker lees.

Stoffel Cilliers (Beeld, 6 April 2009) beskryf die roman as "veelvlakkig, iets wat hom nie sommer in ’n genre laat plaas nie. Tiener- of studenteverhaal is dit nie. Ook nie juis ’n gesinsroman nie. Dit sal beslis kan kwalifiseer as karakterroman. Sommige lesers sal dit ’n natuurroman wil noem. Verskeie temas word in die verhaal aangeraak, soos die verantwoordelikheid van die mens teenoor die natuur, die dood met sy vele gesigte en gevolge en die verganklikheid van die mens. As aktuele, eietydse roman bied  Verbrande paradys  inderdaad baie stof tot nadenke oor ’n verskeidenheid onderwerpe. [...] Dit bied ’n besonder aangename leeservaring.”

In 1977 tydens ’n FAK-byeenkoms op Sasolburg sê Hans dat die bruin mense in Suid-Afrika deel is van die Afrikaanse gemeenskap. In 1998 vertel hy aan Alta van Wyk dat hy toe nie eens bedank is vir sy referaat nie en boonop daarvan beskuldig is dat hy “die taal weggee”. Vandag sê hy: “Dit was ons hele probleem met Afrikaans. Die feit dat politiek diegene wat nie sogenaamde algemene beskaafde of Standaardafrikaans praat nie, uitgedefinieer het; dat ons nie wou erken dat al die variante van Afrikaans die taal verryk en verruim nie. Dit terwyl Afrikaans hoeka uit Hottentots stam. [...] Die stryd teen Afrikaans was egter nie teen die taal nie, maar teen die witgeverfde gesig daarvan. Daarom is ’n inklusiewe herdefiniëring nodig. Want plaas jy vir Standaardafrikaans baklei, baklei jy vir ’n minderheidstaal. Baklei jy vir Afrikaans in al sy skakerings, bevorder jy ’n taal met sowat sestien miljoen sprekers – die grootste taal in Suid-Afrika!”

In 2000 word Hans verkies tot ondervoorsitter van die ATKV, ’n posisie wat hy beklee tot 2008 aangesien hy deur die ATKV se grondwet verplig word om op 63-jarige ouderdom as direksielid uit te tree. Hy was voorsitter van die FAK se Taalkomitee, voorsitter van die direksie van LAPA Uitgewers, trustee van die Kanselierstrust van die PU vir CHO, en trustee van die Arts and Culture Trust van die President. Hy dien ook in die direksie van die Aardklop Nasionale Kunstefees.

Tydens 2000 se Aardklop Kunstefees lewer Hans ’n lesing getiteld "Sol Plaatje en Totius" waarin hy die ooreenkomste tussen die Batswana-skrywer-politikus en die Afrikaanse digter-teoloog uitlig. Albei is in 1877 gebore en albei het doktorsgrade ontvang.

Hans se uitsprake rondom Afrikaans is alombekend. In 1997 skryf hy in  Karring, die Universiteit van Wes-Kaapland se tydskrif vir taalonderrig: “Die bitterbekke wat so kla dat dit deesdae kwansuis sleg met Afrikaans gaan, het die ding aan die stert beet. Dit gaan in die nuwe bedeling inderdaad goed met die  taal  Afrikaans. Dis by die  vak  Afrikaans wat dit lol. [...] Dat die vak Afrikaans soveel teenspoed ondervind, veral aan Afrikaanse universiteite, het te doen met die vak self en met daardie universiteite se vakmense wat ongewillig is om by die nuwe eise aan te pas. [...] Kortom, wie wil nog weet van die teoretiese sintaksis of die literêre semantiek? Die twintig wat aangemeld het vir die akademiese vak, ja, maar hulle is nou die minderheid. Versigtig: so mis jy die ander duisend wat Afrikaans wil leer praat, omdat hulle dit op hul werkplek sou nodig kry of omdat dit ’n ander venster op Europa kan oopmaak.”

In 2002 lewer Hans die Hoërskool DF Malherbe se sewende gedenklesing. Die titel van sy lesing was  Afrikaanses en Afrikaans: van Malherbe tot Mbeki. Hy spreek die mening uit dat Afrikaans vir hom in die eerste plek die somtotaal van al sy dialektiese en sosiolektiese moontlikhede is. “Met dit in my agterkop het ek in 1993 al die term  Afrikaanses  die eerste keer gebruik, bedoelende daarmee al die moedertaalsprekers van Afrikaans, maar ’n belangrike groep het uitgebly: die gebruikers van Afrikaans wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie, maar ’n belangrike deel uitmaak van die sogenaamde sekondêre taalgemeenskap. Juis binne die eksterne omgewing, speel hierdie deel van die Afrikaanse taalgemeenskap ’n belangrike rol.”

Hans skryf graag vroeg smôrens, “alleen saam met die voëls wat baie mooier as ek skryf” en gewoonlik vanweë werkdruk op Potchefstroom; maar, vertel hy aan Jeanette Ferreira, “verkieslik in my aardse skylte op Eersterivier waar ek alles wat ek skryf, gaan afrond, want stilte en alleente is dáár vanself, al raas wie ook al. As ek vashaak, wil ek opstaan, die natuur om my hê”.

Op ’n vraag van Jeanette Ferreira oor hoe hy skryf – sommer so, of eers met notas, frases, so aan – antwoord Hans: “Lang aanloop. Los woorde baiekeer in die kerk, vroeër agter in die Gesangeboek, maar deesdae sit ek maar altyd skoon papier in my kerkpak se sak.”

Hans het sedert die vroeë negentigerjare las van ’n oorerflike oogsiekte waarvoor hy laserbehandeling gekry het. Hierdie behandeling het sy detailsig so aangetas dat hy nie meer kan motor bestuur nie en met behulp van die tegnologie moet lees. Hy spot: “Ek kan byvoorbeeld nie mense se gesigte erken nie, maar dan vóél ek maar wie hulle is!” Ondanks sy sigprobleem gaan hy onverpoosd voort met skryf. In  Finesse  van Februarie 2002 vertel Hans aan Alita Vorster: “Die genade is mos altyd groter as die moeilikheid, maar moeilikheid se moeilikheid is dat dit so sigbaar is. Genade se genade is daarin dat dit daar is as jy dit die nodigste het, al sien jy dit eers later raak. Eintlik moet genade ook met ’n hoofletter begin, want ek praat van God se Genade. Miskien het ons geloof en godsdiens só ingewikkeld gemaak dat ons dit in sy eenvoud (en ons eie eenvoudigheid) nie wil raaksien nie. Hoe kan die hemelse Genade dan so aards, so alledaags, so wêrelds wees? Tog is dit. En al wat ons moet doen, is om dit raak te sien, en te ervaar. [...] En toe die Genade: die bundel (Innie skylte vannie Jirre) word ’n wegholsukses, Awie (van Wyk) se koor bly sing en Randall (Wicomb) maak met ’n produksie en CD nuwe paaie oop. Maar dit is genadegoed dié, want ek het nie vooraf besluit ek wil ’n godsdienstige boek skryf nie. Ek het gedigte geskryf wat uiteindelik groter as ek geword het.

"Die ou met die swak oë en die onvaste woorde word deur die Genade saggies gevat en op ’n pad vol verrassings gesit – ’n pad wat hy nie vir homself só sou kon uitdink nie. Ook maar goed, want die Here se pad loop beter. En dan wonder ons steeds of genade groter is as moeilikheid?”

Tydens die Woordfees van 2011 op Stellenbosch het ’n groep jong kunstenaars van Potchefstroom onder regie van Adri Breed  Boegoe vannie liefde  opgevoer, Hans se  Boegoe  was die basis van hierdie produksie. Dit is getoonset deur Lize Beekman met Franco Prinsloo op klavier.

Marina Nel skryf in  Die Burger  (10 Maart 2011) dat hierdie ’n produksie is wat "jou geloof in die skoonheid van, en noodsaak vir, woorde en musiek opnuut bevestig.

"Dit begin as ’n kamma-lesing oor dialektologie, voorgedra deur die Professor (Natie Klopper). Hy spreek die gehoorlede direk aan en berispe en prys hulle by naam, of hulle werklik sy studente is. Die lesing word egter net gebruik om die sangnommers te bind en aan die taalvariant konteks te verskaf. Die hoofbestanddeel is die erotiese dog tere liefdesverhaal van Koib (Jako Meyer) en Kois (Netanja Brink), wat daar tussen die rooi duine van die Kalahari in die allermooiste beeldspraak ontvou.

"Ester de Vos, Kois se vriendin, dans ’n riel dat jy jou verbeel jy sien die stof staan op die verhoog. Pierre-Louis le Grange en André Klopper, Kois se broers wat haar eer moet beskerm, laat ook nie op hulle wag nie.

"Die sukses van  Boegoe vannie liefde  lê in sy eenvoud: die klem altyd net reg; die byeenbring van uitstaande stemme en treffende verwerkings deur Prinsloo. Daar is ’n iets van alles – kostuums, dekor en rekwisiete – maar die musiek en lirieke is altyd voorop.

"Benewens die klavier, bestaan die begeleiding uit kitaar (Deon Meiring), perkussie en – wag hiervoor – ’n traporreltjie (Rineke Viljoen). Laasgenoemde is wat die produksie bo die alledaagse verhef. Dit skep ’n klank wat jou dit as waarlik outentiek laat ervaar.

"Bowenal maak  Boegoe vannie liefde  jou ook verlief – op Afrikaans in al sy vorme en variante."

Hans du Plessis het aan die einde van 2011 afgetree as hoof van die Noordwes-Universiteit se ATKV-skryfskool. Die 28 November 2013-uitgawe van die tydskrif  Literator  is aan hom opgedra. Oor die aftrede en die oppak vertel hy aan Anim van Wyk (Volksblad, 31 Desember 2011) dat dit vir hom swaar werk was: "Want jy pak 32 jaar van jouself in. Soos wat jy nou al daai boeke in ’n boks moet pak, moet jy jouself ook in ’n boksie pak, want jy moet ’n nuwe benadering hê."

Maar hy het beslis nie stilgesit sedert sy aftrede nie. In 2011 is  Die pad na Skuilhoek  gepubliseer, in 2012  Karos orie dyne, in 2013  As die wind kom draai  en in 2014  Inboekeling.

Die pad na Skuilhoek  speel af tydens die Groot Trek. Hans vertel aan Anim van Wyk (Beeld, 13 November 2011): "Ek het geweet ek wil ook eendag in my lewe ’n liefdesverhaal skryf. My vrou het gesê: Wat weet jy daarvan af?" Hans moes uitgebreide navorsing doen vir  Skuilhoek. Só het hy uitgevind dat die Voortrekkers die Vaalrivier die eerste maal by Parys oorgesteek het.

"Daai stuk van die Groot Trek se geskiedenis was vir my verstommend interessant en lekker. As jy nou mooi gaan kyk, dan weet ons niks daarvan nie," vertel hy aan Anim van Wyk. "Baie van daai geskiedenis van ons is gekleur deur Afrikaner-nasionalisme. Wat gemaak het dat ons heeltemal verkeerde helde het. Afrikaner-nasionalisme het Bloedrivier en Sarel Cilliers tot die Groot Trek verhef.

"Ek probeer in die roman heeltemal ’n ander beeld van die Afrikaner (te gee) – maar ek noem die woord glad nie, want hulle het hulself nie Afrikaners genoem nie. Daar is ’n stilte in die geskiedenis, met ander woorde, waar jy niks weet nie. Die feit dat daar nie soveel feite is nie, maak dat jy lekker fiksie daarin kan skryf."

In  Beeld  van 2 April 2012 skryf Joan Hambidge dat die roman baie vlot geskryf is en dat dit die geskiedenisboeke van Van Jaarsveld uit haar jeug oproep. En hoewel  Die pad na Skuilhoek  as ’n roman vir jong volwassenes aanbeveel is, kan dit dalk eerder persone soos die resensent help om die geskiedenis wat hulle op skool gelees het, te deromantiseer.

"Die verhaal gebruik die geskiedenis van die Matabeles wat in die nag van 23 Augustus 1836 ’n staning Voortrekkers uitgewis het. Net twee jong mense (Lourens en Petronel) en hul vriend, Vryheid, oorleef. Daar is rassespanning en geweld. Name soos Meester, Vryheid en Bybeltjie stel ’n tyd van voor waar begrippe soos 'staning' eweneens ’n gelade betekenis het. Swart mense is nasies of 'die volk'. Hier is dus ’n waarheidsgetroue weergawe hoe wittes ander mense gesien het. (...)

"Die verteller se taalgebruik val presies in die karakters se mond, behalwe een keer wanneer die begrip 'krities' gebruik word en binne die konteks te geleerd klink. Die prosa is gestroop en sonder enige taalfoute wat vele romans deesdae ontsier. Daar is ook ’n nuttige outeursnota vir die speurende leser en ’n indrukwekkende bibliografie, Die roman is soos ’n diorama."

Met die publikasie van  Karos orie dyne  in 2012 het Elias Nel op Versindaba aan Hans du Plessis gevra of hy reken daar kan kopiereg op tradisie, taal of ’n variëteit daarvan wees. Hierop het Hans geantwoord: "’n Taal, of enige vorm daarvan, het nie op sigself kopiereg nie, want dit is nie iemand spesifiek se intellektuele eiendom nie. As dit was, sou ek of Antjie Krog ook nie in Engels mog skrywe nie – of Elias Nel in Standaardafrikaans nie. Afrikaans is die somtotaal van al sy dialekte, en Afrikaans behoort aan almal wat dit praat. Intellektuele eiendom lê daarom in die oorspronklike skepping in die besondere taal en nie in die linguistiese kode self nie. Sou die Griekwapsalms dus iewers bestaan het voordat ek dit geskryf het, beteken dit dat ek iemand anders se intellektuele eiendom gesteel het en as my eie skepping voorhou. Nie een van die gedigte bestaan egter elders as in my eie publikasies nie. ’n Kunstenaar kan net approprieer wat reeds geskep is. Geen wet of reël of regulasie kan egter voorskryf in watter medium die kunstenaar mag skep nie. Dis soos om te sê ek mag nie op ’n rots met plant-en-dier-verf teken nie, want iemand anders het dit al gedoen. Dit is egter ’n ander saak as ek ’n rots met ’n oertekening daarop uitkap en dit as my eie kunswerk gaan uitstal. Dit is appropriasie. Plagiaat, of steel in gewone Afrikaans. Dit is nogal vreemd dat niemand dieselfde vraag met betrekking tot die gebruik van die Bybelgedeeltes vra nie. Miskien is dit simptomaties van ons gebroke taalgemeenskap, ’n taalgemeenskap met grense wat nie bestaan nie, maar deur politieke domastrantheid gefabriseer is. Inteendeel, die skep in ’n variëteit is daarop gemik om die variëteit se potensiaal as skeppingsmiddel te bevestig. Dit probeer juis grense afbreek." 

Oor  Karos orie dyne  skryf Bernard Odendaal op Versindaba: "Met hierdie derde bundel Bybelse poësie in Griekwa-Afrikaans maak Hans du Plessis en Lapa-uitgewers as ’t ware weer so: vlot, toeganklike en waarskynlik gewaarborgde gewilde verskuns vir waardeerders van Christelike literatuur én van die verkwiklike seggingskrag van ’n niestandaardvorm van die taal.

"Die twee genoemde waarderings het ook met mekaar te doen. Naas Du Plessis se vaardige omdigtings van die Bybelse materiaal – hy noem in die 'Outeursnota' dat al die gedigte in die bundel, 'op een of twee uitsonderings na', gegrond is op Bybeltekste – is dit juis die kleding van die bekende geestelike stof in die aards-konkrete, romanties-eenvoudige baadjie van die Griekwatongval wat die poëtiese effek bewerkstellig. (...)

"Die klem val deurgaans eerder op die menslike afhanklikheid van God en op God se liefdevolle, deurlopend reddende teenwoordigheid in die leefwêreld wat hier uitgebeeld word – die 'karos' van die 'jimmel … orie donker dyne' waarvan in 'Die Jirrie spannie jimmel' gewag gemaak word, en waarvan die bundeltitel afgelei is.

"Met  Karos orie dyne  versterk Du Plessis die gewaardeerde posisie wat hy as religieuse digter en as funksionele benutter van ’n niestandaardafrikaans-vorm beklee."

Op LitNet het die uitgewers, LAPA,  Karos orie dyne  as volg bemark: "Karos orie dyne  is ’n splinternuwe bundel met Griekwapsalms deur Hans du Plessis. Dit is weereens oorspronklike gedigte in die aangrypende Afrikaanse dialek van Griekwaland-Wes en bevat die res van die Dawidspsalms en ook verse oor ander Bybelgedeeltes, soos van die gelykenisse.

"Die gedigte vertel van die skepping, die voorspelling en geboorte van Christus, die kruisiging en die einde van die aarde, maar veral van die Groot Genade. Bekende sowel as minder bekende Skrifgedeeltes word weer nuut gemaak deur die seggingskrag van hierdie variëteit van Afrikaans en die treffende transponering van die Bybelse omgewing na dié van die Kalahari. Die verse verras weer met die vernuwing van die Bybelse metafore."

As die wind kom draai  maak net soos  Skuilhoek  sy draai tydens die Groot Trek en daarby saam is ook ’n liefdesverhaal ingeweef. Die verhaal van  Skuilhoek  word hier verder gevat en vertel die storie van Vryheid.

Op LitNet vertel Nini Bennett van  As die wind kom draai: "Dit is 1844 en die seun van ’n slavin, Vryheid, raak verlief op Magriet Prinsloo. Haar gesin, en veral drie broers, is ernstig gekant teen hulle verhouding, en dié weerstand ontketen ’n paar kwelvrae: Wie is Vryheid se pa? Wat is die Prinsloos se groot geheim? Waarom mag net die wit trekkers grond besit? In sobere styl beskryf Du Plessis die lotgevalle van sy karakters; die historiese stoffering van die verhaal is oortuigend en outentiek.

"Naas Vryheid se liefde vir Magriet sentreer die roman ook om twee ander sleutel-intriges, naamlik Lourens se ambisie om veldkornet van die Berglandwyk te word en Bybeltjie Steyn se roeping om in Nederland vir predikant te gaan studeer. Meester Joachim Roos, wat drie uur te perd van die plaas Skuilhoek op Mooirivierdorp (Potchefstroom) woon, is die aangewese persoon om die drie jong mans met hulle onderskeie vrae (wat inderwaarheid die kern van ideologiese vraagstukke vorm) te help.

"In oënskynlik onskuldige verhaalgebeure word ’n paar magsdiskoerse van die Afrikanergeskiedenis geaktiveer. Sonder om in historiese pedanterie te verval, volg die verteller op trekkersweë self die oorsprong van netelige kwessies, byvoorbeeld dié van Afrikaner-identiteit (slawe en rassevermenging en -afkoms ingereken)."

Bennett sluit af: "In  As die wind kom draai  word die karakters se interaksie en noue verbondenheid met die natuur akkuraat en liries geskets. Naas verwysings na die weer, diersoorte en plantegroei word laasgenoemde ook effektief ingespan om betekenis aan die individue se innerlike monoloog te gee, wat op sy beurt weer die emosionele beleweniswêreld van die onderskeie karakters registreer.

"As die wind kom draai  is ’n liefdesverhaal en historiese roman wat eindelik daarin slaag om magsvraagstukke te besleg deur die morele hoë grond te kies. Dit is ’n genietlike werk vir oud en jonk en spreek omstrede kwessies met die nodige piëteit aan. Dit is ’n boek wat getuig van hoop – en binne die historiese inbedding steeds ’n tydlose relevansie sal hê."

In  Rapport  van 6 Mei 2013 skryf Malene Breytenbach dat Hans du Plessis in  As die wind kom draai  daarin slaag om nie net die tydsgees nie, maar ook die omstandighede en die geestelike en fisieke deel van die lewe van daardie tyd oortuigend te skets. "Die kwessie van slawe, rassevermenging en afkoms kry dikwels aandag in ons literatuur en hier is dit weer die kruks van dié verhaal. Die roman lees maklik en lekker en die karakters is geloofwaardig in hul stryd teen hul omstandighede en vooroordele."

Hans se jongste publikasie,  Inboekeling, is weer ’n roman wat op die Voortrekkers in die noorde van Suid-Afrika fokus. Hierdie slag vertel hy van die inboekelingstelsel waarvan baie mense, en dan veral wit Afrikaanse mense, weinig weet.

In  Rapport  (16 Augustus 2014) skryf André Gouws oor Hans se  Inboekeling: "Die Voortrekkers in die noorde van die land het in die middel tot laat 19de eeu, toe slawerny reeds in die Kaap afgeskaf is (1834), steeds voortgegaan met die handel in 'swart ivoor'. Swart kindertjies wat op strooptogte gevang is, is 'ingeskryf' in ’n boek op die dorp en het as slawe vir die Boere gewerk. Sommige is ook uitgevoer.

"Inboekeling  begin met ’n man wat aan ’n riem op die werf van Hier aangebring word deur die bullebak Niklaas Opperman. Niklaas kan niks verkeerd doen in die oë van sy oupa, die patriarg Hermaans Opperman, nie. Die vreemdeling met die riem aan die nek stel homself voor as Japie Niemand, van Elders. Hy is ietwat stadig van begrip. Hy kan glad nie onthou met watter pad hy by die mense van Hier aangekom het nie. Sy broer is iewers langs die pad doodgemaak, maar hy deel nie veel meer van sy storie nie. Hy is vreeslik honger en dors en kan homself kwalik in toom hou wanneer die Coetzees hom nooi vir ete.

"Die verhaal wentel meestal om Japie, wie hy is en waar hy vandaan kom, met ’n hele paar ander storielyne daar rondom. Japie gee voor hy is ’n ystersmid, wat hy nie is nie. Die patriarg stel hom voor ’n toets, want die mense van Hier is maar agterdogtig teenoor dié vreemdeling wat so uit die bloute opgedaag het en net sê hy was op pad na Niemandsland. Hy sê ook nie waarom hy daarheen op pad was nie, maar Niemandsland is nie ’n goeie plek nie. Daar is (aanvanklik) geen geografiese aanduidings in die boek nie.

"Inboekeling  is ’n heerlike boek. Dit lees soos ’n speurverhaal wat ’n mens nie wil neersit nie, maar ’n mens kan ook nie te veel sê sonder om die hele storie weg te gee nie.

"Die lewenswêreld van die inboekelinge is ’n groot deel van die verhaal. Eenkant, maar tog ook nie heeltemal nie. Die vroue (Susanna Coetzee en haar kinders) verteenwoordig die teenslawerny-mening. Hulle is erg gekant teen die steel van die swart kinders en die inboekelingstelsel, maar die ander steun dit steeds. Tarentaal, een van die ingeboektes, kom in opstand teen die hele stelsel. ’n Mens wonder of Japie ook ’n inboekeling is?

"Die boek slaan soms oor na die eerstepersoonsverteller, wat aanvanklik steurend is, want ’n mens het geen idee wie aan die woord is nie. Eers later blyk dit 'Meester' is die skrywer van die boek en praat soms in die eerste persoon.

"Daar is iets steurends aan die ontwikkeling van die storielyn van Meester se eie verhaal. Dit voel geforseerd en dra nie vir hierdie leser werklik by tot die verhaal nie. Dit doen egter geen afbreuk aan die res van die teks nie."

"Hierdie roman het my op hierdie oomblik geneem na ’n herbesoek van die Afrikaanse geskiedenis en in welke mate romans die waarheid beter kan vergestalt as geskiedenisboeke," skryf Joan Hambidge op LitNet. "Dit is ’n roman klein in omvang wat baie nadenke tot gevolg het."

Wium van Zyl het in sy resensie in  Rapport  (22 September 2014) gemeen dat ’n mens die indruk kan kry dat publikasie van  Inboekeling  afgejaag is en dat dit ’n baie goeie literêre spanningsverhaal sou kon gewees het, maar daar is ’n onafgerondheid aan die boek wat nie Hans du Plessis waardig is nie.

Op 18 Junie 2014 het Hans du Plessis saam met Bernard Odendaal, Christo van Rensburg en Jaap Steyn ’n brief aan die pers geskryf oor ’n Afrikaanse universiteit: "Wat van ’n Afrikaanse universiteit? Daar is mos genoeg Afrikaanssprekendes in die land, nie waar nie? Ons praat van ’n volwaardige staatsondersteunde Afrikaanse universiteit wat sonder druk van binne of buite vrye Afrikaans as onderrig- en administrasietaal gebruik. Een van die bestaande universiteite, waar die infrastruktuur reeds bestaan. Personeel is klaar aangestel. Ons vra nie toestemming om op die leemte in ons hoër onderwys te wys nie en ons praat ook nie namens enige organisasie of instansie nie.

"Natuurlik is so ’n universiteit ook nie uitsluitlik vir Afrikaners of Afrikaanssprekendes nie. Die studente hoef nie Afrikaans te wees nie, hulle moet net aanvaar dat dié veelrassige instelling se ankertaal Afrikaans is. Ons ken die geskiedenis van Afrikaans. Aan hierdie nuwe universiteit kan sonder kniebuigings of inmenging skoon begin word. Ons het volle vertroue in die versoenende toekoms van Afrikaans en in die onmisbare gehalte-bydraes wat daardeur gelewer sal word. Ons praat van ’n outonome, nie-rassige Afrikaanse universiteit, wat net ’n bate vir Suid-Afrika kan wees. So maklik. So regverdig."

Tussen die klippe, Hans du Plessis se volgende roman, is in 2016 deur LAPA gepubliseer. Dit is sy vierde roman wat die Groot Trek as agtergrond het.

In die Potchefstroom Herald van 3 Junie 2016 vertel Hans aan Marianke Saayman dat hy hierdie roman gesitueer het in 1852 in Pretoria, meer spesifiek waar die Moot is: "1852 is in die middel van die eeu – net na die Groot Trek … en niks is seker nie. Hulle weet nie of hulle ’n republiek gaan word nie, hulle weet nie wie gaan die goewerneur wees nie, so dis ’n totale onsekerheid.

"Die roman is fiktief maar grens aan vele ander genres. Dis ’n roman oor die geskiedenis en ’n roman oor die liefde, maar dis nie ’n historiese verhaal nie en ook nie ’n liefdesverhaal nie. Dis ’n roman met spanning, maar dis nie ’n spanningsverhaal nie.”

Die beeldskone Susanna staan sentraal in hierdie verhaal. Sy moet voor die hof van landdroste en heemrade verskyn waar sy beskuldig word van veelmannery "en al die sondes wat daarmee gepaard gaan".

Hans het die stuk van die storie waar Susanna in die hof is, gebaseer op ’n werklike saak wat gedurende daardie tydperk plaasgevind het, toe dit ’n man was wat van veelwywery aangekla is. Susanna is ’n fiktiewe karakter, maar is gebaseer op Susanna wat in die Apokriewe boek van Daniël 13 voorkom. "Maar," sê Hans, "my Susanna is nie so vroom soos daardie Susanna nie. Die hele verhaal gaan daaroor om haar skuldig te bewys en die hof is sommer onder die boom tussen die klippe.

"Ek kom self van die Moot-area in Pretoria en het as kind onder die wilgerbome in Silverton gespeel, daar waar die botaniese tuine nou is, en dít is waar my roman afspeel. Hierdie roman was vir my baie lekker om te skryf omdat ek dit in die Moot kon plaas en omdat ek dit in die onsekerste tyd in ons geskiedenis kon plaas,” sê hy.

Dominee Johannes word deur die weledele Sinodale Kommissie aangestel om die hofverrigtinge by te woon. Johannes, wat geen insig in die psige van die vrou het nie, word veral geraak deur Susanna se skoonheid, haar krag, maar terselfdertyd ook haar broosheid en hoe onversetlik sy kan wees. Hy is ook op soek na die waarheid van die liefde soos dit in die Bybel uitgelê word.

"Hoe meer verdoemend die getuienis teen Susanna raak, hoe meer wonder hy of die liefde wat hy verkondig, meer is as die liefde tussen God en mens. Pure Du Plessis-magie." (Rooi Rose, April 2016)

In Volksblad (16 Mei 2016) skryf Ronel Nel: "Die storie is gekrui met heerlike karakters uit die mid-1800's, en gee ’n kykie in hoe dié getemde streek toe nog met olifante, seekoeie en waterkuile sou gelyk het."

Cas van Rensburg (Rapport, 5 Junie 2016) maan lesers om nie afgeskrik te raak "as die tema wat hom so saggies in dié verhaal aanmeld te swartgallig lyk nie.

"’n Mens kan dit maklik miskyk wanneer jy in die greep van die ontvouende verhaal vasgevang is. Du Plessis oortref homself deurdat hy in ’n gewone liefdesverhaal seer punte in die kollektiewe onbewuste van die Afrikaner treffend uitwys. En met so ’n treffende komiese aanslag. Min skrywers kan hom dit nadoen."

Op LitNet is Nini Bennett ook baie positief oor Tussen die klippe. "Soos in  As die wind kom draai  ontgin Du Plessis aardse simboliek op ’n meesterlike wyse. So word die klippe eindelik die verkondiging van ’n tasbare liefde tussen mense, en die filosofie van die waarheid loop parallel met dié van die liefde. Aldus die wyse, maar ongeletterde Kornelius vorm die twee klippe van Moses die twee testamente, maar binne die sluitsteen van één verbond: die liefde van Christus.

"Die roman wemel van onthoubare en eenvoudige alledaagse waarhede. (...) Tussen die klippe  is ekonomies verpak in 48 kort hoofstukke met ’n intrige en kleurryke karakters wat enduit boei. ’n Hoogtepunt is die aankoms en getuienis van die formidabele Catharina Nortier. Die roman bied ook heelwat vir die fynproewer van goeie fiksie. Afgesien van natuurtaferele wat meermale die hofverrigtinge op ’n komiese wyse simuleer, is dit dominee Johannes se brief aan sy vriend Gous wat opvallende ooreenkomste met Paulus se sendingbriewe toon (bl 35) wat vir klein literêre juwele sorg.

"Du Plessis lewer ’n goeie skeut kritiek op die bevoordeling van Calvinisme bó die uitleef van Christelike beginsels, daarom verlaat hy hom op die liefde vir God, die teenoorgestelde geslag en sy medemens: 'Daar is dan maar net een liefde, en dit weet ek nou, is klip en ster' (bl 283). 

"Hier is ’n roman uitgeknip vir ’n lesing oor die rol van die reg in die letterkunde, ’n studieveld wat nog relatief braak lê binne die Afrikaanse literatuur. 'Bylaag 2, die drie en dertig   Artikelen (1844)' as addendum tot die roman posisioneer die verhaal binne die reële regspleging van 1851. Dit herinner die leser daaraan dat die hofsitting – hóé absurd dit mag klink in die oop natuur onder wildeseringbome en tussen bobbejane, voëls en vlakvarke – nog steeds ’n hof in die ware sin van die woord is.

"Van hierdie roman sê Jeanette Ferreira die volgende: '’n Broos mooi liefdesverhaal, heerlik bevredigend vir die leser wat ’n gelukkige einde wil sien, maar tegelykertyd geloofwaardig en nie opgedoen met deursigtige sentiment en onhaalbare ideale nie.'

"Hans du Plessis is ’n gevierde digter, skrywer en akademikus en  Tussen die klippe  is sy tiende roman. Die outeur plaas met die historiese narratief dan ook ’n stuk Trekkergeskiedenis (met sy mengelmoes van identiteite: slaaf en vryburger, wit en swart, man en vrou) allegories in die beskuldigdebank. Dit word ’n verhaal wat vryspraak bied aan sy inboekelinge, beklaagdes, afgevaardigdes en uitgeloofdes – ’n roman wat bevestig dat die mens wel deur die mag van vergifnis en liefde kan uitstyg bo ’n verlede gekontamineer deur wettiese vooroordeel."           

Hy het op die idee van Tussen die klippe gekom omdat hy nog altyd ’n roman met ’n vrou as hoofkarakter wou skryf, maar dit moes nie ’n liefdesroman met ’n tipiese heldin wees nie. En dan het Hans ook die gevoel gehad dat hy nog nie die Groot Trek agter hom gesit het nie.

Sy laaste vier romans het almal ’n historiese agtergrond en is gesitueer in die tyd voor en na die Groot Trek. Geskiedenis is iets waarin Hans baie belangstel. Hy besluit ook nie vooraf wat die temas van sy boeke gaan wees nie – hy skryf oor dit wat oor sy pad kom.

"Die Groot Trek is vir my nog altyd een van die mees romantiese stukke geskiedenis, miskien juis omdat dit nie so noukeurig eerstehands opgeteken is nie. Veral die Potgieter-trek is nie goed gedokumenteer nie, maar dit is ’n geskiedenis vol waagmoed, of domastrantheid, hoe jy dit ook al wil sien. Historici, en veral politici, het dit gemitologiseer. Dit is mos kos vir die romansier."

Hans is ook van mening dat daar ’n leemte in Afrikaanse fiksie oor die Voortrekkers is. Dit is vir hom iets vreemds waaroor hy wonder, "want dit is ’n geskiedenis van pioniers wat net soveel skryfstof het as wat die Amerikaanse Frontier vir die Amerikaners het. Dit kan wees dat ons hierdie geskiedenis polities só misbruik het, dat daar oënskynlik min fiksie oorgebly het waaroor ons kon of wou skryf," sê Hans aan Maryke Roberts. "Ek weet nie regtig nie, maar ek vermoed ons soek ons moderne self nou opnuut in daardie stuk geskiedenis, en die 'ons' is nie net Afrikaners nie."

In Du Plessis se elfde roman, Drie vroue en ’n meisie, kom vernedering, stereotipering, verbode liefde en die geskiedenis van die Afrikaner na vore. Dit word alles in die sage van vier generasies van vroue diepgaande beskryf. ’n Sage wat begin in ’n klein delwersdorpie net so duskant Potchefstroom.

Drie vroue en ’n meisie vertel die storie van die vier vroue, waar hulle drome begin het, en tot waar dit vandag gekom het.
Hy vertel aan Marianke Saayman (Potchefstroom Herald, 15 Februarie 2018) dat dit nie ’n geskiedkundige roman is nie, hoewel die boek in die vorige eeu begin en die geskiedenis van die Afrikaner vertel. "Die storie speel af oor ’n lang tydperk – oor vier generasies van vroue om presies te wees. Dis ook nie ’n liefdesroman nie, hoewel daar ’n liefdesverhouding in die boek afspeel. Dit is eintlik ’n sage – dit is familiegeskiedenis," sê hy. "Die hele roman speel af binne die raamwerk van ’n moderne liefdesverhaal."
Du Plessis het die geskiedenis van ’n sage self ook as inspirasie vir sy eie sage gebruik. Die oorspronklike sage kom uit die 12de eeu en die man wat dit opgeteken het se naam was Sago. Hy het die eerste sage geskryf, wat gaan oor Amlet, die prins van Denemarke, wat toe later bekend was as Hamlet.
“Die eerste van die vier vroue in my boek se naam is Amlet om die Germaanse oorsprong van die Afrikaner uit te beeld.”

Die titel van die boek het ook net op ’n dag by hom uitgekom, vertel hy vir Naomi Meyer op LitNet. "Die titel het sommer net gekom omdat dit die verhaal vertel van vier geslagte vroue van Varkensfontein, distrik Rysmierbult buite Potchefstroom, en die jongste is nog ’n meisie en ’n moderne student, dus sy is die meisie, terwyl die vroue al óf dood óf oud is. En  Vier vroue  het nie opwindend geklink nie ..."

Die storie, soos opgesom deur Hans self, loop as volg: "Die storie is regtig deur ’n vriendin – ongelukkig nie ’n jong student nie – van ons vir my en my vrou vertel vir die waarheid: ’n Skotse delwer en sy vrou kom in die twintigerjare van die vorige eeu soek na diamante op die delwerye van Rysmierbult. Die Skotse vrou sterf pas na die geboorte van haar eerste dogter wat in pleegsorg kom van een van die arm boere in die omgewing, maar die pleegma sterf en die pleegpa trou weer met ’n gebreklike vrou wat die Skotse kind soos ’n Aspoestertjie laat werk. Uit radeloosheid trou die Skotse dogter dan, teen heftige teenkanting, met ’n ryk boer se sieklike seun, wat ook gou sterf. Sy trou dan oorhaastig met die ou wat die dorsmasjien bedryf en hulle trek stad toe met drie kinders. Een hiervan is dan die derde vrou van die storie en sy beland in die weeshuis. Dit is die kinderhuiskind se dogter, die vierde vrou, die meisie, wat vir ons die storie van armoede en vernedering kom vertel. Hiervan moes ek ’n roman maak.

"Die storie van hierdie vier geslagte beeld nie net die geskiedenis van die Afrikaner uit nie, maar het ook ’n sterk tema van vooroordeel tussen ryk Afrikaners oor armes."

Vir Naomi Meyer is die landskap en natuur ’n integrale deel van Drie vroue en kan dit as ’n karakter in die boek gesien word. Hans het dit beaam: "Vir my is die natuur, die skepping, nog altyd ’n karakter, eintlik ’n medemens wat jou slyp. Die verteller is juis self ’n boorling uit die omgewing van die roman en ’n jong skryfkunsprofessor wat die letterkunde ken en wat kan aansluit by Afrikaanse poësie, en dus redelik natuurlik kan aanhaal uit bestaande gedigte om hom te help om die Noordweshoëveld te beskryf – liries en nostalgies as hy wil. Die somer is die 'gelukkiger' dele van die roman."

Hans het baie navorsing gedoen vir die roman: "Eers wyd gelees, met die ou mense gaan praat en toe, met die hulp van die vriendelike mense by ons museum, rondgery en die ou delwerye en ou delwers gaan besoek. PG du Plessis en sy vrou Marie het dekades in die omgewing gebly en die geskiedenis en die agtergrond geken. Ek kon ou notules van die VLU [Vroue-Landbou-unie] kry, want Marie se ma was al sedert die veertigerjare die VLU se sekretaresse in die Rysmierbult-distrik. Die huidige eienaar van die plaas Varkenskraal is ’n vriend van ons en ek kon op die plaas rondloop soos wat ek wou. Tussen die rêrige kleims."

Meyer wou ook meer weet van Varkensfontein: "Die plaas se oorspronklike naam, vandag nog, is Varkenskraal, glo omdat die wilde varke lief is vir die rosyntjiebosse. Omdat die plot fiktief is, het ek die romanruimte Miersehoop en Varkensfontein genoem. Onthou jy die varke van Animal Farm?"

Hans brei verder uit teenoor Saayman: “Dit is ’n komplekse storie wat ek maklik probeer vertel. Terugvoer wat ek van mense gekry het, is dat die boek hulle vreeslik laat huil het aan die einde. Ek het nie gedink die boek sou mense laat huil nie, maar dit is hartseer – die geskiedenis van die Afrikaner is hartseer.
"Die boek eindig met die vierde geslag in die hede tyd. Die einde is ’n einde van hoop, omdat ons nou hoop het. Die meisie leef nou uiteindelik die drome van die vorige drie geslagte uit.”

As die storie begin, vra Katryn, die "meisie" van die titel, haar professor in skryfkunde om haar familiegeskiedenis te boek te stel. Deur die navorsing wat hy doen, word die storie van Katryn en haar voorgeslagte vir die leser duidelik.

In haar indrukke as leser skryf Irene van Staden (LitNet) dat die drie vroue na wie daar verwys word, die drie generasies van vrouens in die Angus Murray-stamboom, Amlèth, Cathy en Kartin is. "Die 'meisie' in die titel van die roman is die agterkleinkind van Amlèth wat as Katryn bekend staan. Al vier hierdie karakters het die kenmerkende  blonde hare gehad en kan met ander woorde as die meisie op die voorblad geïdentifiseer word."

Ook op LitNet skryf Elbie Adendorff in haar resensie: "Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van die drie vroue nie, maar vertel ook die verhaal van ons land se geskiedenis van armoede en swaarkry. Dit vertel hoe swaar ons voorgeslagte gekry het, maar veral van die hoop en die moed van die vrouens wat nooit ophou droom het van ’n beter toekoms nie.

"Drie vroue en ’n meisie  vertel die verhale van veral die drie voorgeslagte van Katryn – die een se verhaal lei tot die volgende. Die chronologie word nie net gevind in die historiese tydverloop betreffende die karakters van Skotland na Johannesburg en die subtiele verwysings na historiese gebeure nie, maar ook in hulle name: Amlèth, Catherine, Katrina en Katryn, asook in die Victoriaanse teestel wat, soos die verhale vorder, breek totdat daar niks van oor is nie – simbolies van die Skotse verlede. (...)

"Dit is ’n roman wat nie net oor die karakters handel nie, maar ook oor die landskap – veral die landskap van die Noordwes-Hoëveld. Al is dit ’n ongenadige en wrede (selfs lelike) landskap, slaag Du Plessis daarin om dit mooi in te kleur: 'Miersehoop lê in die ou Wes-Transvaal, daar waar dit blom tussen die bantoms, waar dit wyd is en ’n mens nog in ’n droom kan glo. God het geen berge of bosse oorgehad toe Hy die land moes maak. Toe het Hy net die vrede en ’n duisend duiwe hier gelaat.' (...) Die landskapbeskrywings toon die keurige en liriese taalgebruik van die skrywer as woordkunstenaar. Die keurige beskrywings is ook gepas, aangesien die verteller ’n skryfkundeprofessor uit die streek is.

"Maar dit is ook ’n verhaal van die geskiedenis van die land. Die boek handel oor delwers en oor oorlog en die nalatenskap van beide in ons land. Dit is hierdie twee gebeurtenisse wat aanleiding gegee het tot geweldige armoede in Suid-Afrika, asook tot swaarkry, mishandeling en ellende. Dit het gelei tot vooroordele en diskriminasie en stereotipering. Maar dit het ook daartoe gelei dat mense mekaar help: so byvoorbeeld sorg Hetta vir Amlèth en neem haar dogter later as haar eie in; Hannie Deysel gee ’n bietjie kos vir Cathy as daar niks meer oor is nie; Judy help vir Cathy in die stad met ’n bietjie kos; die ouderling kom gee kos.

"Drie vroue en ’n meisie  is ’n aangrypende lekkerleesboek. Enkele punte van kritiek kan wel teen die roman genoem word, soos die laaste paar bladsye wat die roman vinnig einde se kant toe laat staan; die ellende en die swaarkry kan nogal erg wees om van te lees; en die 'gelukkige einde' en 'mooi slot' is hinderlik. Ten spyte hiervan is dit ’n roman wat lesers gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van drie vroue en ’n meisie nie, maar verwoord veral die verhaal van oorlewing en aanpassing in moeilike tye en van hoop: 'Hulle het die dromer vernietig, maar nie die droom nie.'"

In Rapport van 11 Februarie 2018 skryf Riette Rust dat dit in Drie vroue kompleet is asof die skrywer se "fiksionele plot die geskiedenis vermenslik" en selfs lesers wat nie veel van geskiedkundige romans hou nie, sal van hierdie een hou. "Die karakters is lewensgetrou en sorg vir holderstebolder emosies, en die skrywer se pen is deurentyd in deernis gedoop. (...)

"Die sterk punt van Drie vroue en ’n meisie lê in die karakterisering, die gestrooptheid waarmee die verkragtingstoneel beskryf word, die beeldspraak en die milieuskildering. Die tydvak word getrou weergegee en op die oog af is daar geen anachronismes nie. Du Plessis se verhaal eindig waar dit begin het: by Katryn, die student. Selfs al bevind sy en die professor hulle in Johannesburg, én waarskynlik midde-in ’n tugsaak, word die verhaallyne uit die plaaslewe netjies geknoop. Dis interessant hoe die skrywer die sêding 'en hulle het vir altyd en altyd gelukkig saamgewoon' omskep in ’n slot wat toe nie ’n cliché is nie. Wel een wat ophelder."

Op Netwerk24 (15 Januarie 2018) is Helen Schoër die volgende mening aangedaan: "Ek het eers gewonder hoekom Du Plessis Katryn se storie as raamwerk vir die res van die verhaal gebruik, want dit het die boek ’n bietjie hortend laat begin. Maar aan die einde kom alles baie bevredigend bymekaar. Die lineêre storie kry ’n knap sikliese slot wat ná al die swaarkry en ellende ’n groot verligting is."

Publikasies:

Publikasie

Kleinwild

Publikasiedatum

1978

ISBN

0809701507 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wat is wat?: ’n inleidende ondersoek na wat-verskuiwing in Afrikaans

Publikasiedatum

1979

ISBN

08697013200 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sintaksis vir eerstejaars

Publikasiedatum

1982

ISBN

086874168 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Gewete van glas

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117184 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Taalfeite en -foute: hersieningsoefeninge vir Afrikaans

Publikasiedatum

1984

ISBN

0869541692 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Macmillan

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Grensgeval

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798119179 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sintaksis

Publikasiedatum

1985

ISBN

086874221X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Variasietaalkunde

Publikasiedatum

  • 1987
  • 1995

ISBN

  • 0620115882 (sb)
  • 0798635525 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Serva
  • Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skuiwelinge

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630574 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798632489 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

En nou, Afrikaans?

Publikasiedatum

1992

ISBN

0627018084 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skryf ’n storie: praktiese wenke en opdragte vir die voornemende skrywer

Publikasiedatum

1993

ISBN

(sb)

Uitgewer

Pretoria: JP van der Walt

Literêre vorm

Letterkundige gids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bakgat, en wat dan van my?

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798133740 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ditsem, Dawid!

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136626 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 13–15 jaar 1998

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Griekwapsalms en annerlike goeterse yt die Woord yt

Publikasiedatum

1999

ISBN

0620251921 (sb)

Uitgewer

Potchefstroom: H du Plessis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte

Publikasiedatum

2001

ISBN

0799328758 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Algemeen Christelike Boeke 2002 (Christelike Boekhandelvereniging van Suid-Afrika)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied

Publikasiedatum

2002

ISBN

799330507 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hie neffens my

Publikasiedatum

2003

ISBN

0799330256 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Splinters: ’n keur uit rubrieke

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799333220 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verbrande paradys

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343137 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die pad na Skuilhoek

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799351613 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karos orie dyne

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355314 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As die wind kom draai

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624057468 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Inboekeling

Publikasiedatum

2014

ISBN

97806240690355 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tussen die klippe

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799378559 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie vroue en ’n meisie

Publikasiedatum

2017

ISBN

97807993786110 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 Hans du Plessis as redakteur

Artikels deur Hans du Plessis beskikbaar op die internet

Artikels oor Hans du Plessis beskikbaar op die internet

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Hans du Plessis (1945–) appeared first on LitNet.

Viewing all 321 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>