Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all 321 articles
Browse latest View live

Paula (1907–1996)

$
0
0

Gebore en getoë

Johanna Margaretha Sauerman (later die bekende skrywer Paula) is op 6 November 1907 in die distrik Albertinia in die Suidwes-Kaap gebore. Hannah, soos Paula bekendgestaan het, het die grootste gedeelte van haar kinderjare op Albertinia deurgebring, en sy was ’n leerling aan die Hoërskool Albertinia. In 1922 het die gesin Albertinia verlaat.

Die natuurskoon van die Suid-Kaapse omgewing het ’n baie groot indruk op die jong Paula gemaak: "Dit was die mooi bakpypies, die kalkoentjies wat in rooi plate gestaan het, asook die vlamrooi aalwyntrosse wat my kindersiel só ontroer het dat ek soms met betraande oë dit alles aanskou het en ’n woordelose gebed opgestuur het dat ek iets van hierdie dinge mag weergee. Selfs as plaaskind was my grootste ideaal om ook eendag boeke te skryf!" (Die Huisvrou, 11 September 1945.)

Verdere studie en werk

As gevolg van swak gesondheid kon Hannah nie na skool universiteit toe te gaan nie, maar sy het nie toegelaat dat hierdie teleurstelling haar onderkry nie en sy het na matriek ’n korrespondensiekursus in joernalistiek gevolg.

In 1928 het sy haar vir ’n operasie in ’n hospitaal op Worcester bevind. Die pragtige natuurskoon van die berge van die Boland het aanleiding gegee tot die skryf van haar eerste gediggies, wat ’n jaar later in die tydskrifte Die Boervrou en Die Goeie Hoop verskyn het.

Sy het verder aan Die Huisvrou vertel: "Baie gediggies, artikels en kortverhale het gevolg ... soos ’n koors-epidemie het dit my beetgepak, die drang na selfuiting."

Aan die begin van 1929 was sy vir ’n kwartaal een van die personeellede van die Ark-huishoudskool op Riebeek-Wes. Weer was haar inspirasie die Bolandse berge en een van die kortverhale wat sy daar geskryf het, "Op die ou balkon", was haar eerste kortverhaal wat in Maart 1929 in Die Huisvrou gepubliseer is.

Paula se naelbyt-afwagting op die reaksie van die redakteur van die tydskrif op hierdie poging van haar is gevolg deur een van groot vreugde en trots toe dit nie net aanvaar is nie, maar die redakteur ook gevra het dat sy nog van daardie tipe verhale aan hulle moet voorlê.

Dit was ook op Riebeek-Wes dat Paula ’n liefdesteleurstelling gehad het – iets waaroor sy nie eintlik gepraat het nie: sy het ’n baie kortstondige verhouding gehad met ’n jong Afrikaanse ingenieur wat in Amerika gestudeer het. En al wat Paula na afloop van die verhouding wou sê, is dat dit as gevolg van ’n geloofsprobleem skipbreuk gely het. Haar skrywersnaam, wat sy afgelei het van die jong man se naam, is al wat van die verhouding oorgebly het.

In 1931 is Paula met Johannes Theron van Graaff-Reinet getroud en die egpaar het hulle op die Karoodorpie Loxton gaan vestig, waarvandaan die liefdesverhale in ’n konstante stroom uit haar pen verskyn het. Drie kinders is uit die huwelik gebore. In 1969 is Johannes oorlede en in 1970 is sy met PA Cloete getroud. Hy was ’n afgetrede boer van die plaas Rietfontein in Loxton se distrik. Sy was net drie en ’n half jaar met hom getroud toe hy ook oorlede is. Hierna het sy haar gaan vestig in ’n aftree-oord, Groene Weide, op Darling aan die Weskus, na ’n halfeeu van ononderbroke skryf.

Paula se eerste vervolgverhaal, “Skakels”, het kort na die bogenoemde kortverhaal, “Op die ou balkon”, ook in Die Huisvrou verskyn. Die lesers van hierdie vrouetydskrif was gaande oor die verhaal. “Skakels” is opgevolg deur “Na-oes”, “Louter goud”, “Haar geboortereg”, “Rooidag en aandgloor” en “Gedempte lig”.

“Skakels”, “Na-oes” en “Haar geboortereg” is as ’n trilogie in boekvorm gepubliseer en dit was só gewild dat al drie as verhoogaanbiedings verwerk is en met groot sukses deur Johan Fourie se destydse verhooggeselskap op die planke gebring is.

Sarel Marais, die destydse bestuurder van Afrikaanse Persboekhandel (APB), wat baie van Paula se boeke uitgegee het, het in Junie 1951 besluit dat hy 6 000 eksemplare van Paula se boek Heldersig op die mark wil bring met haar handtekening voorin.

Paula was heeltemal te vinde vir die voorstel, maar sy het sekerlik nie besef dat sy vir ongeveer 14 dae net hope en hope van haar boeke sou moes teken en dat sy saans met ’n lam hand die uitgewerskantore sou verlaat nie. Hierdie idee het ’n baie goeie afloop vir die uitgewers gehad deurdat duisende van haar lesers op die APB-boekwinkel in Joubertstraat in Johannesburg toegesak het. Binne ’n ommesientjie was al 6 000 eksemplare verkoop.

Van haar lesers was egter nie bewus van die feit dat Paula eintlik JM Theron is nie en wou die boeke teruggee omdat daar reeds JM Theron voor in die boek staan! (Die Vaderland, 30 Junie 1951.)

In 1963 het Paula Goud op die kruine onder die skuilnaam Lorraine de Jongh geskryf en is dit deur JP van der Walt Uitgewers uitgegee. Volgens haar kleindogter, Johrensa Theron, wou haar uitgewers vasstel of haar boeke ook so gewild sou wees as dit onder ’n ander naam verskyn.

Op 16 Maart 1954 het sy haar 25ste jaar as een van die gewildste skrywers van Afrikaanse liefdesverhale gevier. Sy het die geleentheid herdenk met die publikasie van Donker verskansing, haar 22ste werk in 25 jaar.

Een van die persone wat haar altyd aangespoor het om te bly skryf, was CM van den Heever, wie se aanmoediging en opheffende kritiek haar gehelp het om so lank aan te hou skryf, vertel sy aan Rooi Rose (12 September 1979).

"Wanneer ek miskien by tye aan my besondere styl getwyfel het, was sy wyse vermaning om nooit te begeer om na iemand anderse se patroon geknip te word nie."

Die sukses wat Paula as skrywer behaal het, kan nie aan een enkele en spesifieke bron toegeskryf word nie, maar die Engelse sêding “Around every corner there is a short story if only you can find it” was dalk vir haar geskryf. Dit was juis dit wat haar leuse in haar skrywersloopbaan geword het. Dan is daar natuurlik ook haar ondersoekende en diepe belangstelling in mense self. Uit die verskillende fasette van mense se lewens het sy altyd haar inspirasie gevind.

Baie van haar werke is op feite gegrond en daarvoor het sy baie na spesifieke plekke gereis, ’n sketsplan vir die verhaal opgestel en met verskeie mense op ’n spesifieke dorp gesels. Op hierdie manier kon sy dus haar karakters en hulle persoonlikhede vorm gee.

Só het sy ’n hele tydjie op Knysna gekuier om navorsing te doen vir die skryf van Die lang ompad; haar tyd verwyl langs die Weskus vir Witbaai se mense en besoek gaan aflê aan Stellenbosch by ’n kwekery daar naby vir die skryf van haar trilogie Heldersig, Die Rheeders van Heldersig en In die somerjare.

Paula het aan Lane Flint (Volksblad, 12 Januarie 1980) vertel dat sy verkies om boeke te skryf in plaas van om bydraes aan tydskrifte te lewer: "Vir my het dit destyds voorgekom as tydverspilling, want van daardie werk sien ek gewoonlik net die tjek aan die einde van die maand waarin dit verskyn het. Die geld word spandeer op nodige en soms onnodige dinge terwyl die werk aan die boek agterweë bly.

"Dis hoekom ek verkies om boeke te skryf. Al verg dit in mý geval maande se arbeid om ’n roman te voltooi, het ek aan die einde darem iets tasbaars om te toon. Dis iets wat ek in my hand kan vashou, iets wat ek kan byvoeg by die twee rye op die boekrakke."

In 1982 het JP van der Walt Uitgewers ’n prys vir die bydrae wat Paula 53 jaar lank aan die Afrikaanse romankuns gelewer het, aan haar oorhandig. Sy het ’n beeldhouwerk en ’n sertifikaat ontvang.

Sy het aan Elretha Moolman (Beeld, 17 November 1982) vertel dat as sy ’n resep het hoe om lesers 53 jaar lank met roman na roman te boei, sy dit nie met voorbedagte rade opgestel het nie. "Dit is ’n ding wat self aan my torring: wat kan die rede wees dat my boeke na al die jare nog in sulke aanvraag is?"

Paula het in haar leeftyd altyd ’n aktiewe rol gespeel in die plaaslike gemeenskap waar sy haar bevind het. Sy het in die bestuur van die ACVV en die VSB op Loxton gedien en was vroeër voorsitter van die Vroue-Landbouvereniging. Sy het ook in die bestuur gedien van die plaaslike biblioteekkomitee en die Rooikruisvereniging en was vir ’n klompie jare lid van die skoolraad.

Lane Flint het in Volksblad (12 Januarie 1980) as volg oor Paula se skryfwerk geskryf: "Elke roman is geskep met ’n ryke verbeelding, intrige, vindingryke woordkuns, romantiek en eg menslike karakterbeelding om die leser mee te voer. Paula het met haar besondere talent volgehou oor ’n tydperk van vyftig jaar en dit vasgevang in ’n totaal van sestig boeke, om nie te praat van haar kortverhale, rubrieke en ander skryfwerk nie."

Paula is op 23 Februarie 1996 oorlede.

Publikasies:

Publikasie

Skakels

Publikasiedatum

  • 1935
  • 1939
  • 1940
  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Samuel Griffiths

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Louter goud

Publikasiedatum

  • 1940
  • 1997 (grootdruk)

ISBN

0868129712 (sb)(hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Samuel Griffiths
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Na-oes

Publikasiedatum

  • 1941
  • 1997

ISBN

0868129763 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Samuel Griffiths
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verskuifde bakens

Publikasiedatum

  • 1942
  • 1943
  • 1944
  • 1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Geknakte riete

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: President Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Haar geboortereg

Publikasiedatum

1944

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Samuel Griffiths

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Rooidag en aandgloor

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1945

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Grille van die noodlot

Publikasiedatum

1945

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kronkelpaaie

Publikasiedatum

1945

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Ankertoue

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Keurbiblioteek

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

As U oordeel en ander verhale

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1995

ISBN

1868396517 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Samuel Griffiths
  • Pretoria: Kennis Onbeperk

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Versperde weë

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1949
  • 1960
  • 1982

ISBN

0628024894 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Gedempte lig

Publikasiedatum

  • 1947
  • 1951
  • 1982
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

  • 0868145750 (hb)
  • 0868125393 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Daan Retief
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verbode vrugte

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1950
  • 1974

ISBN

0869690353 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Krugersdorp: President-uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die gewaagde spel

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Gesluierde beloftes

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Groen hange

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Heldersig

Publikasiedatum

  • 1951
  • 1962
  • 1983
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 0628025939 (hb)
  • 0868126144 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skaduwees oor Uitsig

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1992 (grootdruk)

ISBN

0868123412 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Nuwe beloftes

Publikasiedatum

  • 1953
  • 1992 (grootdruk)

ISBN

0868123161 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Waterstraat se mense

Publikasiedatum

  • 1953
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Keurbiblioteek

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Donker verskansing

Publikasiedatum

  • 1954
  • 1968
  • 1996 (grootdruk; in twee dele)

ISBN

  • 0868128481 (sb) (deel 1)
  • 0868128635 (sb) (deel 2)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Johannesburg: President-uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Rheeders van Heldersig

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1966
  • 1983
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

  • 0628026137 (hb)
  • 0868126152 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Perskor
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Van skrywers gepraat ...

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Om hulle ontwil

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1981 (grootdruk)

ISBN

0868142638 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vir ’n handvol silwer

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1967

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die lang ompad

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1990 (grootdruk)

ISBN

0795922272 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die stiller stroom

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1982
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 079930574X (hb)
  • 0868128503 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: Keurbiblioteek
  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dis nimmer of nou

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

0868125385 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Mimosa
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Helende waters

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Mimosa

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verdeelde trou

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1971
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

0868128619 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: President Uitgewers
  • Johannesburg: Dagbreek-Boekkring
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die pad vorentoe

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Keurbiblioteek

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Meer as ’n erfenis

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1982 (grootdruk)
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 0868144614 (hb)
  • 0868129593 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Dagbreek-Boekkring
  • Pretoria: Daan Retief
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die paasklokke van Wienersdal

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1982

ISBN

0628023588 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Geleende naam

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die hoekerf

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1995 (grootdruk)

ISBN

0868126896 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die hoogste kruin

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1995

ISBN

086812690X (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tessa van Somerson

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: President Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Al die fasette

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1984

ISBN

0799307572 (hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die wit dood

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Simondium-uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Onbekende môre

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Johan Malherbe

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Stryd om Grazia

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1985 (grootdruk)

ISBN

0795903138 (hb)

Uitgewers

  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die pad lê terug

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1987
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

  • 0799311294 (hb)
  • 0868126322 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Liefde in die weegskaal

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1975

ISBN

0869660993 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Pluim-boeke

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Nuwe daeraad

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1987

ISBN

0799311642 (hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

In die somerjare

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Soos korale

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Driehoek-Boeke

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die behoue droom

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1980

ISBN

0799304794 (hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Witbaai se mense

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1983

ISBN

0799307246 (hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Môre bring die antwoord

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1981

ISBN

0799305004 (hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Terug uit die skaduwees

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: President Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wilde suidooster

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1983

ISBN

079930655X (hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Lied van die Laeveld

Publikasiedatum

1972

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: President Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Louter goud; Haar geboortereg; Rooidag en aandgloor

Publikasiedatum

1972

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Melodie van verlange

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1985
  • 1993 (grootdruk)

ISBN

  • 0799322853 (hb)
  • 0868123439 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Erfgenaam vir Skietkuil

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1986
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 0799301205 (hb)
  • 0799309818 (hb)
  • 086812849 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

My mooiste melodie

Publikasiedatum

1975

ISBN

0629000220 (hb)

Uitgewers

Randburg: Pronk-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kosbaar soos korale

Publikasiedatum

1977

ISBN

0629000549 (hb)

Uitgewers

Randburg: Pronk-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verre vlugte na geluk

Publikasiedatum

1978

ISBN

0629000670 (hb0

Uitgewers

Randburg: Pronk-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die einde van die pad

Publikasiedatum

1979

ISBN

06290007355 (hb)

Uitgewers

Randburg: Pronk-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die jare swyg oor gister

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1979
  • 1996 (grootdruk)

ISBN

  • 0869691023 (hb)
  • 0868128511 (sb)

Uitgewers

  • Pretoria: JP van der Walt Uitgewers
  • Krugersdorp: President Uitgewers
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die lang ompad

Publikasiedatum

1980

ISBN

0868141836 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die hoekerf; Die hoogste kruin

Publikasiedatum

1981

ISBN

0799305596 (hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Delmarie

Publikasiedatum

1992 (grootdruk)

ISBN

0868123870 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Makro

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

As Lorraine de Jongh

Publikasie

Goud op die kruine

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: JP van der Walt Uitgewers

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Paula (1907–1996) appeared first on LitNet.


Wilna Adriaanse (1958–)

$
0
0

Sêgoed van Wilna Adriaanse

“Lesers hou van karakters waarmee hulle kan identifiseer, hulle lees agter ’n sterk intrige aan en die liefdesaspek is maar net een deel van die storie. Interessant genoeg, vroue van alle ouderdomme, uit alle dele van die land en uit alle beroepe lees liefdesverhale. En deesdae raak al hoe meer mans dapper genoeg om te erken hulle lees dit ook.”

“Ek dink nooit karakters self uit nie: hulle kom verlei my en fluister in my oor dat hulle wil hê ek moet hul storie vertel.” (NB@Bookslive 10 November 2008)

“As ek in die antieke tye geleef het, sou ek heel waarskynlik ’n storieverteller op die markplein gewees het, want by die huis sou daar nie vir my veel nut gewees het nie.” (http://www.wilnaadriaanse.co.za)

“Vir my is skryf ’n jaloerse proses en al beplan ek hoe deeglik, beland ek met elke boek in ’n stadium dat ek my dikwels aan vriende, familie en die wêreld onttrek en die grootste gedeelte van my dae in ’n gedagtewêreld saam met fiktiewe karakters deurbring. En selfs die tye dat ek nie agter die rekenaar sit nie, is die storielyn besig om soos ’n rolprent in my gedagtes af te speel en bedink ek moontlikhede.” (LitNet)

Hoe maak ’n mens tyd om te skryf? “Jou geliefdes moet begrip hê, jy moet vrede maak met min slaap, skryf moet werklik ’n passie wees, jy moet leer om die kaf en die koring te skei, tevrede wees dat die woorde ‘verveling’ en ‘ledigheid’ nie in jou woordeboek voorkom nie – en die aanleer van die woord ‘nee’ help baie.” (LitNet)

“As mense hoor ek skryf liefdesverhale, wil hulle altyd weet of ek hygromans skryf. Daar is ’n duidelike verskil tussen die twee. In ’n liefdesverhaal gaan dit eerder oor die karakters se emosies as oor grafiese beskrywings. Ek het groot respek vir skrywers wat jare lank met groot omsigtigheid liefdesverhale skryf. Dis soms nogal ’n ondankbare werk, want die skrywers dien hul lesers eerder as hulself.” (Die Burger, 6 Januarie 2005)

“My stories gaan oor mense en menswees en menswees. En veral oor die eiesoortige dans wat ontstaan die dag as twee mense mekaar ontmoet of her-ontmoet. Binne die ontdekking van ’n ander persoon lê daar soveel interessante moontlikhede opgesluit en bly dit vir my ’n interessante tema.” (http://www.wilnaadriaanse.co.za/va)

“Romantiese fiksie word dikwels deur onkundige lesers en kritici voor die voet afgemaak as hygromans, maar ek is dankbaar dat daar wel lesers en resensente is wat nie in die geykte slaggat trap nie. Op ’n ligter noot, ek sal nogal graag wil hoor indien een van my boeke ’n leser laat hyg het ... en waar in die boek dit plaasgevind het.” (http://www.wilnaadriaanse.co.za)

“Afrika fassineer my omdat dit so onvoorspelbaar is [op] soveel maniere, veral as ’n mens dit vergelyk met ’n Europese leefstyl wat jou gees kan afstomp.” (NB@Bookslive 10 November 2008)

Waar is/was sy op haar gelukkigste? “Die dag toe my kinders, Cobus, Jaco en Johann, oud genoeg was om saam met my te gaan fliek. Dis soveel opwindender as ’n rondomtalie in die speelpark.” (Beeld, 1 Maart 2009)

Waar was sy op haar ongelukkigste? “’n Wêreld sonder oranje lipstiffie, boeke, donker sjokolade en my ma se vleisslaai.” (Beeld, 1 Maart 2009)

As wat sou sy in ’n tweede lewe wou terugkom? “Ek vermoed hierdie is reeds my tweede ronde ... Ek was in my eerste lewe ’n hofnar en vir my straf het ek teruggekom met ’n verdraaide humorsin.” (Beeld, 1 Maart 2009)

Oor die skuif in genre (met Dubbelspel) aan Nadine Petrick: "Aan die een kant ’n vrees dat ek dalk op ’n dag gaan begin karakters en storielyne kloon, en om dit te voorkom, moet ek ’n groot verskeidenheid storielyne ondersoek. Deels dalk omdat ek gou verveeld raak en altyd op soek na iets nuuts is. ’n Derde rede is dalk omdat ek nie graag net oor 'boy meets girl and they lived happily ever after' skryf nie. Verhoudings en die lewe is tog veel komplekser as dit. En die laaste rede is waarskynlik omdat ek glo daar is ’n groot mark vir boeke wat die lesers laat ontspan, maar terselfdertyd hulle gedagtes en verbeelding prikkel. Ek hoop ek slaag daarin." (http://www.wilnaadriaanse.co.za)

Is dit maklik vir haar om elke keer ’n nuwe boek aan te pak (Phyllis Green)? "Elke boek is moeilik. Selfs al kom meld die karakters aan. Dit is nie asof hulle met ’n klaar storie aankom nie. Ek moet hard werk om te sien waarheen hulle my wil neem. Die ergste is as hulle dae lank, selfs soms ’n week of twee stil raak. Dit is dan wanneer ’n mens soms ure lank na ’n wit muur kan staar, en niemand dit verstaan as jy sê jy is besig om te werk nie!" (Sarie, 13 Junie 2014)

"Mense dink ek het ’n keuse van watter tipe boek ek gaan skryf, maar eintlik het ek nie veel van ’n keuse nie. Die karakters kom net en dan loop ek maar agter hulle aan." (Bookslive)

Haar lewensfilosofie: "Die lewe bring nie altyd presente met groot, veelkleurige linte nie. Die magic lê in die klein oomblikke." (Vrouekeur)

Die lekkerste aspek van haar lewe as skrywer: "Die interaksie met lesers. Mense kommunikeer via Facebook of boodskappe met my. Ek antwoord elke brief wat ek kry. Mense doen moeite om met my te gesels en daarom gesels ek terug. En as die karakters met jou begin gesels!" (Vrouekeur)

"As jy wil skryf, moenie net daaroor droom nie. Doen dit, anders sal jy altyd wonder." (The Writer's College Blog)

"Ek dink nie dit is moontlik om te skryf as jy nie self ’n ywerige leser is nie. Lees so wyd as moontlik, maar veral binne die genre wat jy wil skryf. Probeer om jou teikenmark te verstaan." (The Writer's College Blog)

Rachelle Greeff vra hoekom ons, wat so geweldvoos is, nog steeds misdaadfiksie wil lees: "Dit het ek my ook afgevra terwyl ek die boek (Dubbelspel) geskryf het. En steeds het ek nie ’n antwoord nie, behalwe om te sê dalk is ons maar steeds op soek na helde. En adrenalien. Ek was ongeveer 14 toe ek een vakansie die skrywer Leon Uris 'ontdek' het. Ek was ge-hook. Die politieke intrige was so opwindend. Jy kan my steeds in ’n wip vang met ’n goeie spanningsverhaal. 

"Jy lees seker agter die naelbyt-element aan, maar ek vermoed dit gaan ook oor die versugting dat die goeie ouens asseblief moet wen. Miskien gee dit ons moed vir ons eie omstandighede. Nog iets: Ons skryf soms stories om te verstaan. ’n Mens besef dit nie, totdat jy kniediep in ’n storie is. En ek dink ons lees ook om dieselfde rede. Ja, ons wil vermaak word, maar dis ’n bonus as ’n storie vir ons ’n stukkie van die lewe duideliker maak." (Rapport, 11 Junie 2014) 

Rachelle Greeff wou by Wilna weet of dit haar romanses is wat haar geleer het om "in-die-kol-sexy" te skryf: "Ek is bly as jy so reken. Om in Afrikaans oor seks en die liefde te skryf, bied nogal uitdagings. My geslag het van jongs af oor die liefde in Engels gelees. Ons is dalk nog lomp en verleë om dit in Afrikaans te beskryf. Dit is waarom ek dalk eerder die sensuele probeer. Met die klem op die karakters se emosies en nie soseer op wat hulle doen nie." (Rapport, 8 Junie 2014) 

Dink sy die opvolg op Dubbelspel sal net so suksesvol wees? "Jy neem met elke boek jou skrywerslewe in jou eie hande en hoop jy en die storie kom heelhuids anderkant uit. Ek het ook geleer dat ek baie dapper lesers het wat deur die jare lojaal gebly en my toegelaat het om ’n paar jakkalsdraaie met hulle te gooi. Ek is dankbaar om te sien hulle is steeds aan die lees." (Rapport, 8 Junie 2014) 

Oor die krapperige verhouding tussen ma en dogter in Dubbelspel: "Al het ek self nie dogters nie, is ek darem ’n dogter vir my ma. Ek dink die verhouding tussen ’n ma en dogter is op beste van tye meer kompleks as dié tussen pa's en seuns. ’n Ma en dogter bly lewenslank vasgestrengel in die naelstring. En ek vermoed dit het iets te doen met die feit dat jou dogter ook geboorte gaan skenk." (Volksblad, 7 Mei 2014)

En die verhouding tussen ma en seuns? "Om seuns groot te maak, is tegelyk opwindend, interessant en vreesaanjaend. Ek moes dapperder word en hulle het my ook geleer wat ongekompliseerde verhoudings is – en hoe om te kommunikeer deur bloot ’n TV-speletjie teen mekaar te speel." (Volksblad, 7 Mei 2014)

Gebore en getoë

Wilna Adriaanse is op 19 Maart 1958 "met die rooi sand van die Kalahari tussen haar tone gebore as die middelste kind tussen twee broers. Dis ‘n wêreld van stories, mites en legendes. En elke persoon in daardie wêreld is eintlik ‘n storieverteller uit eie reg. Sy noem dit die wêreld waar vrae met stories beantwoord word," skryf Mariana Malan.

Sy word egter tussen die berge en wingerde van die Breëriviervallei in Worcester groot en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Worcester.

Vandat Wilna kon praat, het sy stories vertel, en op skool het sy graag opstelle en briewe geskryf. Sy was ook van kleins af lief vir lees en sedert sy in graad 1 leer lees het, het sy nog nooit weer opgehou nie. Boeke was van kleins af haar beste geselskap.

Verdere studie en werk

Na matriek in 1977 is Wilna na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n BA-graad met sosiologie en ontwikkelingsbestuur gedoen het, asook ’n honneursgraad in ontwikkelingsadministrasie.

In 1981 trou sy met Deon Adriaanse, ’n klasmaat, en hulle verhuis vir drie en ’n half jaar na Giyani in die Laeveld. Hulle albei werk daar by die Kantoor van die Kommissaris-Generaal. In 1985 trek Wilna en Deon terug Kaap toe en gedurende die volgende vyf jaar word hulle drie seuns, Cobus, Jaco en Johann gebore. Met die oudste kind se geboorte word Wilna voltyds ma, maar skryf tussendeur by die Universiteit van Suid-Afrika in vir sielkunde, en vir die volgende paar jaar word die eksamens en werkstukke so tussen die geboortes deur geskryf. Sedert 1987 woon die gesin in Durbanville naby Kaapstad, en sedert 2012 werk Deon in Botswana en pendel Wilna tussen Somerset-Wes en Botswana.

Die skryfgogga het vir Wilna om middernag op 31 Desember 1999 in die Switserse Alpe gebyt. “Ek is mal oor Nuwejaarsvoornemens en dit was my gróót besluit met die aanbreek van die nuwe millennium,” vertel sy aan Kirby van der Merwe (Beeld, 1 Maart 2009). Terug in die Kaap hoor Wilna van Martie Preller se internetskryfkursus en sy besluit om daaraan deel te neem sodat sy kan sien of dit is wat sy regtig wil doen. “Dit was ’n baie interessante leerskool en by tye het ek my bedenkinge gehad, maar die saadjie was gesaai en teen die einde van die kursus het ek geweet ek gaan op daardie vreemde pad stap, al is dit by tye nie ’n maklike pad nie.”

Wilna was self ook al by skryfkursusse betrokke. In 2010 was sy saam met Chanette Paul ‘n beoordelaar van LitNet se aanlynskryfkursus, SkryfNet XXIV. Sy was ook kursusleier van die Afrikaanse deel van die “Skryf ’n Roman”-kursus van die South African Writers’ College.

In 1999 is hulle oudste seun, Cobus, na Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch en skielik was die huis leeg en wend Wilna haar na haar rekenaar en begin skryf aan haar eerste boek. Sy skryf aanvanklik onder ’n skuilnaam, Wilmine Burger. Oor hierdie besluit skryf Wilna op haar webwerf: “Dit was waarskynlik ’n mate van selfbeskerming indien daar nie verdere boeke gaan volg nie. As niemand weet ek het die boek geskryf nie, kan niemand my vra of ek weer een gaan skryf nie. Ek dink die vrees dat daar nooit weer ’n storie by jou gaan kom aanklop nie, is iets waarmee baie skrywers waarskynlik moet saamleef. Na twaalf boeke is die vrees steeds daar, maar ek het darem al ’n mate van vertroue in die proses gekry. Toe Tafelberg in 2001 ’n manuskrip koop, het ek besluit om die naam Wilmine Burger aan die Lapa-boeke te koppel en by Tafelberg voort te gaan onder my eie naam.”

Sy stuur in 1999 ’n manuskrip na LAPA en in 2000 word Die wingerd sal weer bot uitgegee. ’n Verdere drie boeke onder haar skuilnaam verskyn by LAPA, naamlik ’n Heildronk op die liefde (2002), Liefde is ’n kleur (2004) en Brug van woorde (2004). ’n Heildronk op die liefde wen in 2002 LAPA se Liefdesverhaaltoekenning van die jaar.

Tafelberg publiseer in 2001 ’n Ongewone belegging, die eerste boek wat onder haar eie naam verskyn. Dit word as deel van die Jasmyn-afdeling uitgegee. Verdere titels wat onder die Jasmyn-naam volg, is Alleenvlug (2002), Die reuk van verlange (2003) en Serenade vir ’n nagtegaal (2004). In 2005 word Hande wat heelmaak onder die Hartklop-naam uitgegee.

In 2004 waag Wilna haar hand aan ’n veel lywiger boek, en Rebecca word in die romantiese-fiksie-genre deur Tafelberg uitgegee. Dit beleef in 2005 twee herdrukke en ’n tweede uitgawe verskyn in 2009. Die uitgewers se inligtingstuk beskryf die storie van Rebecca as volg: "Rebecca Fagan is op 25 in besit van ’n regsgraad, ’n rugsak, ’n groot mond en baie guts. Sy het twee jaar druiwe gepluk in Frankryk, in Italië op ’n olyfplaas gewerk en was in Duitsland as ’n kelner in diens. Maar sy is terug in Suid-Afrika en soek ’n 'regte werk' – verkieslik een wat opwindend is en wat ’n groot salaris betaal. Toe sy hoor dat Julian Hoffman, derde-geslag-erfgenaam van ’n multimiljardrand-maatskappy, op soek is na ’n persoonlike assistent, besluit sy om aansoek te doen, al is die pos nooit in ’n koerant geadverteer nie. Haar leuse is nie verniet 'Wie nie waag nie, wen nie' nie."

Die roman is in Huisgenoot beskryf as ’n “liplek-lekker resep vir ’n liefdesverhaal, maar met ’n paar kinkels” en in Leserskring as “die lekkerste soort storie wat ’n mens kan kry. Dis Pretty woman in Afrikaans. Net nog baie beter.” In Volksblad (28 Februarie 2005) skryf Anita de Kock dat die verhaal ’n sterk storielyn het met karakters wat oortuigend beskryf is. Al wat De Kock gepla het, is dat die dialoog soms baie lomp is, maar sy het nietemin gemeen dat die verhaal ten spyte daarvan ’n treffer behoort te wees.

Jeanne Hugo (Die Burger, 5 Maart 2005) beskryf Rebecca as ’n ou resep met ’n nuwe baadjie. “Die taal is jonk en modern, so ook die karakters. Die storie het hierdie leser gevange gehou – ek het vroegaand begin lees en nie opgehou totdat ek klaar was nie. Die verhaal styg uit bo die deursnee-liefdesverhaal danksy die kompleksiteit van die karakters. Rebecca het sommer baie issues, in die jong sprekers se taal. In haar rugsak is ’n paar donker geraamtes, by gebrek aan ’n kas, en wanneer sy uiteindelik tot stilstand kom, kos dit ’n rukkie om te besef hoekom dit so lank geduur het. Hier handhaaf die skrywer ’n goeie balans – nét wanneer Rebecca se koppige aandrang op onafhanklikheid en andersheid die leser begin irriteer, word die rede daarvoor geopenbaar.

“Julian word nie as die perfekte man voorgehou nie – hy is kort van draad en effens te ingenome met homself. Tog openbaar hy elke nou en dan verborge, deernisvolle karaktereienskappe wat hom en die verhaal diepte gee. Iets wat volgens my broodnodig is in die domein van die liefdesverhaal – die deursnee manlike karakter het gewoonlik mos die intelligensie van ’n koffietafel. Behalwe dat die liefde ondersoek word, word gekyk na die aard van afhanklikheid, en die gee-en-neem-proses wat laasgenoemde impliseer.

“Laat ons eerlik wees: Ons almal weet die twee duifies sal mekaar mettertyd vind, want dít is die doel van ’n liefdesverhaal. Dit is die reis daarheen, die droom daarvan, waarvoor ons val. Vál en val maar weer, sê ek, as nog sulke verhale op my pad kan kom.”

Volgens Helene de Kock (Beeld, 16 Mei 2005) weet Wilna hoe om die dialoog op so ’n manier aan te wend dat dit bydra tot die tempo van die verhaal. “Dis lewendige, natuurlike dialoog wat die leser teen wil en dank by die verhaal betrek. Dit dra by tot goeie karakterisering en ook die newekarakters maak aanspraak op die leser. Adriaanse ontgin die ruimte in die verhaal werklik goed wat betref Kaapstad en die wildtuin. Maar plekke soos Londen en New York waar die karakters besoek aflê, kom nie tot hul reg nie. Rebecca is egter ’n werklik boeiende lekkerlees roman en mens hoop daar kom meer sulke dik stories om lang ure mee te vul.”

Met ander woorde verskyn in 2005. In hierdie boek vertel Wilna Kristina se verhaal. Nadat sy gaan draf het en nie haar gewone tyd terug is by die huis nie, bel haar twee huismaats die polisie. Hulle kry haar onder ’n bos teen die berg en hoewel sy by haar bewussyn is, kan sy niks onthou wat gebeur het nie. Sy gaan spreek Ben Krige, ’n psigiater op Stellenbosch. Kristina interesseer die psigiater baie en sy is vir hom soos ’n labirint: "vreemd en onbekend. Maar baie aantreklik. Al wat hulle het, is woorde. Maar geleidelik breek die woorde grense af en uiteindelik bring die pad hulle by ’n bestemming uit – maar ’n bestemming lyk soms anders as waarop ’n mens gereken het," volgens die uitgewers se inligtingstuk.

Op kalahari.net skryf ’n resensent dat sy/hy nie kan wag om al Wilna se boeke te koop nadat sy/hy Met ander woorde gelees het nie. “Ek kon die boek nie neersit nie. Die taalgebruik was soos die Afrikaans wat ek in my huis praat, die mense soos die mense wat ek elke dag mee te doen kry, die storie geloofwaardig en interessant. Die storie probeer nie een of ander politieke boodskap oordra nie, dit probeer nie ’n prof by ’n Afrikaanse departement beïndruk nie, dit probeer my kry om uit te vind wat het met arme Kristina gebeur.”

Met die verskyning van Die boek van Ester in 2008 vestig Wilna haar as een van die voorste beoefenaars van die genre van romantiese fiksie in Afrikaans. Met Ester beweeg sy nog verder weg van die formuleagtige liefdesverhale, volgens Ronel Nel (Beeld, 25 November 2008). “Meer in die rigting van boeke wat deesdae as chick-lit (enigeen vir ’n beter beskrywing in Afrikaans?) bestempel word: ontspanningsverhale wat nie net die hormone laat pomp en sentimentele romantiese ideale verstewig nie, maar wat die leser erken as ’n moderne, ontwikkelde vrou wat weet wat om haar aangaan en beslis ’n goeie dosis realiteit kan verwerk. Die karakters is meer kompleks, die verhaallyn meer verwikkeld en daar is beslis geen voorspelbaarheid in die verloop nie.”

In Die boek van Ester is Ester ’n fotojoernalis, maar sy is geen groentjie nie. “Haar pa is Joods, hy was redakteur van ’n groot koerant, haar ma Afrikaans. Haar ouers word een aand in hul oprit doodgeskiet – geensins ’n lukrake misdaadgeval nie, maar dit noop haar steeds om Suid-Afrika te verlaat en na Londen te trek. Daar hervestig sy haarself totaal: sy verander haar klere, haar sosiale kring en word ’n mode-fotograaf. Afrika is in sy maai en sy stel nie belang nie, dankie!

“Twee jaar later is sy egter terug in die land vir ’n shoot in die Laeveld. Daar ontmoet sy Samuel McGreggor, veearts en omgewingskenner. ’n Belese, welsprekende man, uitgesproke en deel van die kontinent wat sy so inderhaas verlaat het. (...) Die boek is heerlik, hoewel dit soms voel of die dialoog ‘toesprake’ is, met geweldige bykomende nagevorste inligting. Dit is ook nié ’n Ingrid Winterbach of ’n Marlene van Niekerk nie – en probeer dit ook geensins wees nie. Dit is ’n lekkerlees-boek van waarde. Goeie chick-lit soos ons dit in Afrikaans nodig het. Ideaal vir ’n Saterdagmiddag op die rusbank, voete in die lug en ’n glas wyn in die linkerhand.”

Vir Magda Venter, Volksblad (10 Maart 2009) se resensent, betree Wilna met Ester die wêreld van die meer moderne en realistiese leser wat nie meer net wil lees van die heldinne van die "resepmatige liefdesverhale" nie, maar wat verhale wil lees wat opgebou is rondom aktuele sake. En hoewel Venter klein puntjies van kritiek gevind het, meen sy dat Ester die moeite werd is om te lees.

Herman Wiid skryf op LitNet dat Die boek van Ester die klassieke ondertone van ’n tipiese liefdesroman bevat. “Daar is die uitbeelding van die held wat sy damsel in distress moet red van die gruwelikhede van die wêreld. Hul intense, emosiebelaaide liefde-haat-verhouding sorg plek-plek vir passievolle oomblikke, soos op bl 433, maar dreig ook om uitgerek en vervelig te raak. Net so is daar ook baie elemente wat getuig van ’n meer ernstige aanslag in Adriaanse se werk en wat verdien om genoem te word. Die eerste hiervan is ’n deurlopende vrouetema, wat veral na vore kom in die tradisionele dans wat die vroue uitvoer (263). Ester voel ’n magiese aangetrokkenheid tot hierdie ritueel en vir die eerste keer sedert haar ouers se dood, voel sy dat sy weer êrens behoort.

“Die verhaal speel ook af teen die breër agtergrond van die bewarings- en ekologiese vraagstuk en dit sorg vir ’n interessante en relevante aanslag tot die storielyn deur die klem wat dit op aktuele sake, soos natuurbewaring en misdaad plaas. Nog ’n belangrike gegewe in die boek is die simboliese waarde wat daar deurgaans aan voëls geheg word. Hierdie tema maak die deur oop vir verdere interessante interpretasies van die verhaal deur die lesers.

Die boek van Ester sou nie afgerond gewees het sonder sy Bybelse intertekste nie. Verrassend genoeg is daar geen sprake van die Bybelse Ester-figuur in enige van hulle nie, maar tog slaag hulle in hul doel. Ook die paar filosofiese invoegings, veral dié deur die karakters Samuel en Robert en Ira, gee inhoudelike struktuur aan die verhaal.

“Al hierdie elemente val mooi in plek in die konteks van die verhaal en dit lyk of Adriaanse met dié verhaal weer haar slag gewys het met die pen. Dit bly egter ’n liefdesroman en ongeag die (bogenoemde) ernstiger aspekte rondom die boek moet lesers van ernstige leesstof en fiksie nie veel meer verwag nie. Dit gesê, voel ek is Die boek van Ester sy plek werd op vanjaar se The List van Exclusive Books, juis omdat dit, soos Adriaanse se ander werke, 512 bladsye van pure vakansieleesgenot bied vir die hopeless romantics onder ons.”

Die boek van Ester is in 2009 aangewys as die wenner van die ATKV-prys vir Liefdesromans.

Op haar webwerf vertel Wilna dat sy besonder baie navorsing moes doen voordat sy Die boek van Ester kon skryf. Hoewel hulle wel ’n tyd lank in die Laeveld gebly het, moes sy weer teruggaan om die gevoel van die plek terug te kry. Sy was by ’n rehabilitasiesentrum vir olifante en tydens die tydjie daar het daar jong olifante aangekom. Sy het ook op ’n olifant gery en ’n helikopterrit oor die Laeveld beleef. “Gedurende ’n besoek aan ’n wildernisgebied het ek baie ure met die gidse deurgebring en baie by hulle geleer. Aan die einde van die boek is daar ’n lang lys persone wat bedank word en dit is omdat hulle almal werklik meegehelp het dat ek die storie kan skryf.”

Wilna het haar in 2009 ingeskryf vir haar MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden.

In 2010 publiseer Tafelberg Wilna se volgende roman, Vier seisoene kind. Die hoofkarakter in hierdie roman is Cato, wat ook in Met ander woorde voorgekom het. Die flapteks vertel die storie: "Die woord weduwee is ’n verdrietige woord, ’n toestand waarmee Cato haar met moeite vereenselwig. Maar hier waar sy in die vliegtuig sit, is dit ongelukkig haar werklikheid. Haar man is dood, ’n skamele drie jaar ná hul troue. Sy is op pad terug Stellenbosch toe, waar Kristina en Ben nog is. En Marcus en Helen net om die draai in Kaapstad woon. Haar ondersteuningsnetwerk. Of dit so ’n goeie plan is om terug te gaan na die plek waar sy vir Neil ontmoet het, weet sy nie, maar in dié stadium wil sy nêrens anders wees nie. Veral nie alleen in Londen nie. Êrens tussen die tyding van die motorongeluk, die blyke van waardering, die roudiens en die werklikheid van ’n leë plek langs haar in die bed, het sy die Cato wat sy geken het, verloor. En in haar plek ’n bang vreemdeling gevind."

Wilna het vertel hoe Cato een nag met ’n bottel sjampanje voor haar bed verskyn het en gesê het dat Wilna háár storie moet vertel, en dit was die ontstaan van Vier seisoene kind.

Op LitNet skryf Elbie Adendorff as volg oor Vier seisoene kind: "Die tema van die boek is nie net die sprokieselement van die liefde nie, al spot Cato self met die tema: 'Dit is al daardie verdomde sprokies wat ’n mens hoor as jy klein is' en 'And we all lived happily ever after, saam met Kersvader, die Paashaas en die tandmuis.' Die boek gaan oor die vraag: Wat as mens se lewe anders uitdraai as wat dit veronderstel is om uit te draai? Met ander woorde as jou 'to do'-lysie nie meer lyk soos dit moet lyk nie, soos Adriaanse dit self in ’n onderhoud verwoord het. Vier seisoene kind gaan oor die wendinge wat in ’n mens se lewe voorkom en hoe jy op ander paaie gestuur word as waarvoor jy beplan het.

"Die boek verwoord natuurlik ook die tema van verlies en die hantering van verlies, soos deur Cato verwoord op p 318: 'Dit is so maklik vir julle almal om kommentaar te lewer. Cato is te maer, Cato huil te veel, Cato huil te min, Cato moet eet, Cato moet slaap, Cato moet treur, Cato moet minder treur. Gaan aan. Rou eers. Was een van julle al hier?' Saam met verlies, is die implikasie van ’n nuwe begin: Cato begin nuut op Stellenbosch, sy koop ’n nuwe besigheid, sy raak swanger, daar is die totsiens sê van die ou jaar en die groet van die nuwe jaar, en daar is die nuwe begin saam met Jacob.

"Hierdie temas is almal temas waarmee elke leser kan identifiseer: Hoe hanteer elkeen van ons verlies, hoe hanteer ons die wendinge wat op ons pad kom en hoe hanteer ons nuwe beginne. Dit is wat die boek bo die tipiese liefdesverhaal laat uitstyg – die ingewikkelde storielyn, die kompleksiteite van die karakters, die bevraagtekening van die liefde.

"Daar is verder ook die ander kleiner temas, soos vriendskappe en die waarde daarvan, die verhoudinge met ouers en skoonouers, die aanpassing in ’n nuwe dorp, enkelouer-tiener-verhouding. (...)

"Die verhaal van Cato is chick lit en dit is ’n lekker boek om oor ’n naweek te lees. Dit lees nie moeilik nie, en dit wil en moet dalk juis nie, want dit is populêre fiksie. Tog laat dit die leser nadink oor universele kwessies. Ek sal lesers aanmoedig om die boek te lees, veral dié wat die drie karakters Cato, Helen en Kristina reeds uit die vorige boek leer ken het. Ook die leser wat iets meer uit romantiese fiksie wil kry as die gewone 'Mills en Boon'-stories."

In Rapport van 3 Desember 2012 skryf Ilze Salzwedel: "In dié boek is van ’n gehyg geen sprake nie. Geleef en oorleef en geworstel met kwessies eie aan ons moderne lewe, ja, maar nie ’n gehyg en gewag op ’n ridder nie. Alles, van haar man se dood tot ’n onbeplande swangerskap, ’n eie onderneming, ’n nuwe land en nuwe en ou vriende, maak van Cato ’n vlees-en-bloed karakter wat struikelblokke uit die weg ruim en haar eie lewe bepaal. En dié leser leef mee, volg Cato se spoor tot daar waar sy haar eie mens is.

"Adriaanse mag maar skryf. As jy dit nog nie gelees het nie, gaan kry dadelik jou eksemplaar van Vier seisoene kind. Dis elke sent werd, en vir dié leser was die leesgenot veels te gou verby."

Ook in Rapport van 3 Desember 2010 is Jaybee Roux die volgende mening oor Vier seisoene kind toegedaan: "Die hantering van die deurlopende tema – die 'vier seisoene van rou' wat iemand ná die dood van ’n geliefde moet deurleef – bied beswaarlik opwindende leesstof. Dit sou goed kon werk as ’n leitmotief om alles wat in die boek gebeur, saam te bind. Maar die probleem is juis: daar gebéúr nie veel in dié roman nie. Die dilemma waarmee die heldin uitgedaag word wanneer sy besef haar man het haar méér as herinneringe ­nagelaat, word onderbenut. Dit kon ’n uitstekende katalisator gewees het om woema aan die verhaal te gee, maar dié aspek van Vier seisoene kind word met amperse gelatenheid gehanteer.

"Die uitdagings wat ’n teater­restaurant bied, bring ook nie juis opwinding nie, in elk geval nie wanneer dit deur Wilna Adriaanse beskryf word nie. Die liefdeselement is maar flou. Daar is min konflik tussen die heldin en die man met wie sy bestem is om haar toekoms te deel; daar is ook nie regtig sprake van struikelblokke wat oorkom moet word voordat hulle mekaar uiteindelik 'vind' nie.

"Die yl intrige word deur te veel en te lang gesprekke aanmekaargeflans (bladsy 7 tot 480). Wanneer daar in Vier seisoene kind gevloek word, kom dit meesal 'uit plek' voor en voel dit vir die leser asof hy/sy – met apologie aan Langenhoven – kou aan ’n mond vol koringkorrels waarin klippies versteek is.

"Hoekom is die boek dan so gewild? Die heldin is 'doodgewoon'; juis daarom kan soveel lesers hulle met haar vereenselwig. Die skrywer wéét hoe moderne vroue werkkrisisse, huweliksprobleme, vriendskappe ensovoorts ervaar. Baie genrelesers hóú van ’n ­dralende pas en weemoedige ­ondertoon: ’n roman is nie ’n aksiefliek nie. Die lesers voel Cato se verlatenheid en eensaamheid soms tot in die siel aan. Die grootste faktor bly egter die skrywer se vermoë om ’n heldin oortuigend en met warmte en deernis te skets. Dis al. En dis al wat tel."

Dit is vir Wilna baie belangrik om sterk heldinne te skep. “In die verlede wou die heldin gered word. Vandag doen sý die reddingswerk,” vertel sy aan Mariana Malan in Die Burger van 12 Januarie 2005). “Tog het elkeen die behoefte om eendag iemand te ontmoet wat haar volledig aanvul.”

Vir Wlna is een van die geheime van die liefdesverhaal dat die leser in die vel van die heldin kan klim. "Die verhaal word dus vanuit haar perspektief geskryf. Lesers sien nie werklik die ander karakters se kant van die saak nie en hulle het ook nie ’n vertellerstem nodig nie. Daar is gewoonlik nie ’n geheim in die slot opgesluit nie. Almal weet die held en heldin gaan op die ou end bymekaar uitkom. Die spanning lê in hóé dit gebeur.”

Wilna het gou geleer dat daar baie in liefdesverhale is waarmee mense kan identifiseer. “Mense meen dikwels hulle moet deur groot waarhede aangespreek word. Ek het al agtergekom dat dit die klein dingetjies is waaruit mense leer.

"Ek gaan soek nie na stories nie. Stories kry my en my familielede kom uit die Noordweste en is almal storiemense. My boeke wat ek skryf, is vir my soos familielede."

Wilna is ’n romantikus in murg en been en dit is hoekom haar stories so maklik na haar toe kom. “Nie noodwendig die soort wat kersligetes en stadige tango’s veronderstel nie, hoor,” vertel sy aan Sarenda Eloff-Vorster (Rooi Rose, Februarie 2003). “As ons na ou flieks kyk en ek die klassieke boeke lees, lyk dit of romanse in ons moderne samelewing uitgesterf het. Waar in hierdie supersoniese lewe kry ons nog tyd vir roosblaarbaddens en passievolle nagte saam? Vir handgeskrewe briewe op geblomde skryfpapier wat na katjiepiering ruik?

“Nee, dié is yl gesaai, maar in die plek daarvan het ’n nuwe soort romanse ontstaan. Of dit beter of slegter as die ou soort is? Wie sal weet? Ons kan net probeer om soos met baie ander dinge ook hierdie nuwe vaardigheid aan te leer, want ons behoefte aan liefde, koestering en aanvaarding bly dieselfde.”

Toe Wilna se man, Deon, in 2002 in Lagos, Nigerië gewerk het, moes hulle ander planne bewerkstellig om die romanse in hulle huwelik lewend te hou: “Vir my het romanse met kopspeletjies te doen. Soos ’n vinnige sin wat meer bedoel as wat die woorde sê, begrip vir mekaar en intellektuele stimulering. Dis soos ’n hartskonneksie.”

Mense nooi Wilna dikwels om van mooi en interessante plekke by hulle gebruik te maak om te skryf en sommige van hierdie plekke kan selfs as eksoties bestempel word, maar sy het geleer wanneer sy begin skryf, moet sy agter haar eie lessenaar sit met haar bekende kennisgewingbord vol notas en foto’s langs haar, vertel sy op haar webwerf: “My aantekeningboeke en notaboeke langs my en my yskas naby waar ek my na liggaam en siel kan gaan verkwik wanneer die karakters my laat kopkrap. (...) Alles is egter moontlik en toe my man vir ’n jaar in Nigerië gewerk het, was ek verplig om te skryf waar ek ook al gekom het. Op lughawens, in vliegtuie, in hotelkamers. So ’n bestaan bied weer sy eie uitdagings en plesiere.

"Dit is vir my belangrik om voor ’n boek so wyd as moontlik te gaan rondloop sodat die storie kans kry om te groei en ek die geleentheid het om dinge soos beelde, reuke, klanke, gesigte en dies meer in my geheue te versamel. Al daardie inligting en herinneringe word egter op ’n dag, soos kersvader se sak geskenke, terug na my studeerkamer gesleep om deel van die storie se doek te word.”

Oor twee boeke wat mekaar opvolg, het Wilna gevoel dat sy nooit ’n opvolg op een van haar boeke sou skryf nie, "omdat ek glo dit kan die eerste boek potensieel skade aandoen as dit nie ’n storie is wat op sy eie bene kan staan nie. Ek voel steeds so, maar met die volgende boek gaan ek tog terug na vorige karakters, nie soseer as ’n opvolg nie, maar om die verhaal van een van die ander karakters te vertel. So, wie weet, eendag loop ek dalk terug op van die ander boeke se paaie ook.”

In 2012 word Wilna se volgende roman, die produk van haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, onder die titel ’n Klein lewe uitgegee. Dit is met die eerste oogopslag duidelik dat hierdie roman op Wilna Adriaanse se eie lewe gebaseer is, maar dit is tog nie outobiografies soos ons outobiografiese romans ken nie.

In Tydskrif vir Letterkunde van 2013 is Lezandra Theart die resensent en sy skryf dat die boek ingewikkelde vrae vra en naspoor wat die hoofkarakter elke dag ervaar het gedurende haar grootwordjare in die 1950's in Suid-Afrika, "asook hoe die hoofkarakter as ’n ouer probeer om haar kinders te beskerm teen al die hartseer en seerkry wat sy self reeds ontdek het. Die titel van die boek suggereer dat die verhaal handel oor iemand wat nie ’n bekende figuur is nie, maar eerder ’n doodgewone vrou wat van kleintyd af met vrae worstel waarmee verskeie mense kan assosieer. ’n Klein lewe is egter alles behalwe klein aangesien die teks met ’n groot gehoor kan kommunikeer op grond van die verskeidenheid onderwerpe wat Adriaanse aanraak. Adriaanse noem verder talle gebeurtenisse wat aan die Suid-Afrikaanse leser bekend sal wees soos die dood van dr Verwoerd, die politieke onrus in die townships tydens die 1970’s en 1980’s, PW Botha se Rubicon-toespraak, seuns wat grens toe moet gaan en selfs later die dood van Eugène Terre’Blanche. Vir die hoofkarakter is dit asof al hierdie, en nog vele ander gebeure wat ook in die boek oorvertel word, haar identiteit en die mense om haar se identiteit vorm. (...)

"Myns insiens is die konsep van identiteit die belangrikste aspek van die roman. Vrae oor identiteit word herhaaldelik in die boek geopper. Ek vind ook Adriaanse se fokus op ontworteling interessant aangesien dit direk met identiteit verband hou. Soos reeds genoem, het die hoofkarakter reeds van ’n jong ouderdom met die idee kennis gemaak dat identiteit en velkleur dikwels verstrengel word. (...)

"Die boek kan daarom gesien word as ’n persoonlike reis vir die hoofkarakter waarin sy probeer om deur middel van haar eie storie haar teenwoordigheid in Suid-Afrika te verklaar. ’n Tweede belangrike aspek van die boek is die konsep van 'tuis wees' in ’n bepaalde plek. Die hoofkarakter ervaar baie ontworteling soos sy in haar kleintyd en later saam met haar man van dorp tot dorp trek. Hierdie konstante beweging ontwrig ook haar sin van identiteit omdat sy haarself elke keer weer aan nuwe mense in ’n nuwe omgewing moet bekend stel terwyl ’n gedeelte van haarself agterbly in die vorige dorp, en sy elke keer nuwe idees en ervarings van die vorige dorp na die volgende dorp saamdra. Dit is juis waarom die illustrasie van die voëltjie op die voorblad van die boek gepas is – die hoofkarakter ervaar haar lewe as een waar sy van nes tot nes vlieg, maar nooit te lank bly nie en elke keer wanneer sy aanbeweeg, bly daar altyd takkies agter, selfs al word die nes afgebreek. (...)

"Uiteindelik besef die hoofkarakter dat dit juis al die ervarings en ontwrigting in haar lewe is wat haar identiteit gevorm het en dat ’n mens nie anders kan as om vorentoe te beweeg nie. ’n Klein lewe is ’n maklike boek om mee te assosieer aangesien die onderwerpe so wyd is en daarom toelaat dat verskillende lesers verskillende gedeeltes van die verhaal kan eien. Adriaanse demonstreer ook deur die boek haar veelsydigheid as skrywer aangesien die boek afwyk van haar gewone skryfstyl wat in die liefdesverhaalgenre inpas. In my opinie is ’n Klein lewe nie ’n groot letterkundige werk nie, maar eerder ’n eenvoudige illustrasie van die vrese en vrae waarmee talle wit mense in Suid-Afrika worstel. En juis om hierdie rede is die boek van belang."

Vir Saartjie Botha in Beeld van 23 Julie 2012 is dit nie net ’n roman nie, maar kan dit ook gesien word as ’n "kultuurhistoriese dokument" wat ’n prentjie skets van ’n wit Afrikaanse gesin en hulle wêreld in die laaste helfte van die 20ste eeu. "Die motivering vir ’n Klein lewe en die herbesoek van ’n lewensroete word vroeg in die roman uitgespel: ’n hoofkarakter wat sin wil vind in haar teenwoordigheid in Suid-Afrika vandag, sodat haar kinders en hul tydgenote hul lotsbestemming beter verstaan. Sodat hulle motivering het om te bly, en nie deel word van die 'expat'-generasie uit onkunde nie.

"Die roman is ondanks die politieke ondertone ’n reis na begrip, nie na konfrontasie nie. Dis ’n persoonlike belewenis en belydenis wat niks meer as dit probeer wees nie. Die geldigheid van elke individu se ervaring is ononderhandelbaar.

"Adriaanse bied die ervaring in ’n beskeie stemtoon aan, baie bewus van ander se ervaring wat nooit gehoor sal word nie, en uiteraard met hare sal verskil. Haar skryfstyl is vlot en toeganklik, met hier en daar dialoog wat effens geforseerd voorkom. ’n Klein lewe is sterk aan te beveel vir almal wat bemoeienis het met herkoms, ook vir dié wat besef dat daar ’n veelheid van stemme nodig is om sin te maak van die land waarin ons leef."

Met haar volgende roman, Dubbelspel, begewe Wilna haar op ’n heeltemal nuwe terrein, naamlik dié van die misdaadroman. Sy vertel aan Phyllis Green (Sarie, 13 Junie 2014) dat sy nie hierdie sprong beplan het nie; trouens, sy was self effe verbaas. "Maar na 14 jaar van stories maak, vind ek dat stories universele eienskappe het. Selfs die romantiese genre het ook ’n spanningselement. En spanningsverhale het dikwels ook ’n romantiese draad. Die klem verskil dalk net. Op die ou end was die sprong toe nie so groot soos ’n mens sou verwag nie."

In Dubbelspel is die hoofkarakter Ellie McKenna. Wilna het een aand na ’n musiekuitvoering in ’n kerk geluister "en terwyl ek op ’n stadium ietwat verveeld rondkyk, het ek in my verbeelding ’n jong vrou sien orrel speel. Die volgende oomblik het twee mans agter in die kerk ingeloop en sy het dadelik geweet hulle soek haar. En ek was nuuskierig ..."

Ellie McKenna is in die polisie, maar haar hele wêreld word omgekeer wanneer haar polisieman-pa by ’n padblokkade doodgeskiet word. Sy wil met alle geweld help met die ondersoek na sy dood, maar mag nie. Ook beleef die land ’n aanslag van boewe – van die Chinese triades tot die Russiese mafia en die plaaslike dwelmbase. Die eenheid vir ernstige misdade waar Ellie werk, is betrokke by die ondersoeke.

Ellie se vriend, Albert Greyling, is ook ’n polisieman en hy ondersoek die Kaapse dwelmbase en wil vir Ellie in sy klandestiene ondersoek gebruik, wat sal beteken dat sy moet bedank. Op hierdie manier raak sy betrokke by mense wat almal op een of ander manier met skelmstukke besig is. Sy ontmoet ook vir Nick Malherbe, hoof van een van die skelmfamilies se sekuriteit.

Wilna moes baie navorsing doen vir Dubbelspel, want sy het nie veel kennis gehad van die wêreld waarin sy haar boek wou plaas nie. Sy vertel aan Phyllis Green: "Maar ek het wonderlike mense raakgeloop wat bereid was om met my hulle ervaring en kennis te deel. Dit is een van die lekkerste byvoordele van skryf – die interessante mense wat ’n mens so deur die navorsing ontmoet.

"Wat ook interessant is, is hoe die werklikheid dikwels die verhaal waarmee ek besig is naloop. Miskien is ek net baie meer oplettend, maar gedurende die skryf van die storie het daar ’n hele paar dinge in die nuus gebeur wat baie mooi by die storie ingepas het. En het ek ook toevallig in gesprekke beland waar ek waardevolle inligting gekry het."

In Die Burger van 3 Mei 2014 vertel Wilna verder oor die mense met wie sy gepraat het om inligting vir Dubbelspel te kry: "Ek moes wyd praat, maar meestal met mense wat ek nie kan noem nie. Maar dis ook interessant hoe ’n storie momentum kry. ’n Toevallige gesprek met ’n joernalis. ’n Onverwante vraag aan ’n speurder. Laataand in Seepunt se strate. Iemand wat eerstehandse kennis het van geldwassery.

"Kenners op die gebied van die veiligheidsbedryf. Koerantberigte wat stories wat aanvanklik vergesog geklink het, bevestig. Dit was asof almal net op die regte tyd hul verskyning gemaak het.

"Terwyl ek besig was om die boek te skryf, sit ek per geleentheid in ’n vliegtuig langs ’n oudpolisieman wat nou seerowers jag in die Indiese Oseaan tussen die kus van Oos-Afrika en Asië. Toe hy my vertel wat hy doen, raak ek aan die lag. Want wat was die kans dat ek juis toe langs hom sou beland?!"

Elbie Adendorff skryf op LitNet dat hoewel Wilna in Dubbelspel wegbeweeg het van die romantiese verhale, is die karakterisering, die verhoudings en storielyne nog net so ingewikkeld soos haar vroeëre werke. Vir haar is Dubbelspel ’n "lekkerlees-spanningsverhaal met ’n goeie storielyn en interessante karakters. Dit boei die leser van die begin af en bied ’n blik op ’n wêreld waarvan min lesers sekerlik sal weet. Die ingewikkelde verhoudingspel en intriges maak dit ’n boek wat nie maklik neergesit kan word nie en daarom beslis aanbeveel word om te lees."

In Die Laevelder skryf Liezel Lüneburg dat die einde van Dubbelspel haar met ’n skok getref het en vir die eerste keer in ’n lang tyd wou sy nie ophou lees nie: "Dubbelspel is ’n gepaste titel. Bykans al die karakters in die boek speel ’n dubbelspel en lei in verskillende grade ’n dubbele lewe. Elkeen kies waar, wanneer en tot watter mate hy of sy die spel bekend wil maak – indien enigsins. Die reëls verander deurentyd en die leser moet kophou om die slim, dikwels versteekte nuanses en storielyne te volg. Die storie lewer keer op keer aangename én onaangename verrassings op en laat die leser vinnig onder die indruk kom dat niémand en niks te vertrou is nie.

"Wilna Adriaanse is eintlik bekend vir boeke met ‘n romantiese storielyn. In Dubbelspel spring sy na ’n spanningsverhaal en bewys haarself as ’n uitmuntende skrywer wat (...) enige genre met sukses sal kan aanpak. Tog het Dubbelspel ook ’n opwindend-romantiese lyn en ek kan nie wag om te sien waarheen hierdie lyn in Eindspel beweeg nie.

"Afrikaners hoef nie meer nét Amerikaanse, Engelse en Skandinawiese spanningsverhale te lees nie. Daar is menige spanningsverhaal wat in Suid-Afrika afspeel en oorspronklik in Afrikaans geskryf is. Ek geniet hierdie boeke omdat die omgewing en agtergrond dikwels bekend is. Ek ken die plekke waar die tonele afspeel. Verder is die taalgebruik en woordkeuse ook bekend. Dalk omdat dit oorspronklik in mý taal geskryf is en nie in Afrikaans vertaal is nie. Wilna Adriaanse het dit reggekry om die boek só te skryf dat ek in ’n sekere mate met die gesprekke en mense kan assosieer. Die karakters tree op en praat soos wat ek verwag het hulle moet. Ek lees verskillende genres, maar spanningsverhale tel onder my gunstelinge. Van die menige Afrikaanse spanningsverhale wat deesdae op die rakke beskikbaar is, tel Dubbelspel nou onder my witbroodjies. Dit is definitief oor en oor die lees werd!"

In Beeld (10 Mei 2014) is Ilza Roggeband dit min of meer eens met die ander resensente. "Dubbelspel lees teen ’n stewige pas en die spanningsdraad is styfgespan. Hierdie is nie ’n boek met ’n einde nie. Reeds voor in die boek word die leser gewaarsku dat dit die eerste deel van ’n tweeluik is. Dubbelspel is egter ’n heerlike voorgereg en te oordeel aan die kort uittreksel uit die opvolg, Eindspel, wat agterin Dubbelspel geplaas is, beloof die tweede gereg om net so ’n goeie leeservaring te wees. Ellie en Nick se storie is beslis nog nie klaar vertel nie."

Wilna vertel aan Rachelle Greeff (Rapport, 11 Junie 2014) dat sy nie aanvanklik ’n tweeluik beplan het nie. "Die storie wat ek aanvanklik begin skryf het, gaan nou die tweede boek word. Terwyl ek daarmee besig was, het ek besef Ellie het ’n stuk geskiedenis wat eers vertel moet word, anders gaan ek te veel terugflitse moet gebruik. Ek is seker ek gaan vorentoe nog wil weghardloop, maar dit sal nie ’n nuwe gevoel wees nie. Ek ervaar dit met elke boek.” 

Dubbelspel is op die kortlys vir 2015 se ATKV-Woordveertjieprys vir spanningslektuur.

Oor die vordering met Eindspel vertel Adriaanse aan Greeff: "Omdat ek reeds ’n ent weg was met Eindspel voordat ek Dubbelspel begin het, het ek darem nie met ’n wit bladsy begin nie en is daar al heelwat storiemateriaal wat lê en wag om verwerk te word. Ek is kliphard daarmee besig, maar die lesers moet Ellie darem ook ’n bietjie mis voordat sy weer haar opwagting maak." 

In 2017 verskyn die langverwagte vervolg op Dubbelspel onder die titel Eindspel en dit beteken dan ook die einde van Ellie, die polisievrou, se verhaal. Eindspel is in 2018 bekroon met die Graffiti Boeke/Lekkerlees Boekrakprys.

Die roman begin met Ellie wat op die platteland bly en ’n heel gemaklike en lekker lewe voer. Sy is die plaaslike orrelis en sy en die dominee hou baie van mekaar. Maar soos dit moet gebeur, is die vredige bestaan nie van lange duur nie. Een Sondag sien sy in die truspieëltjie van die orrel twee mans met donkerbrille die kerk instap, en instinktief weet sy dat hulle op soek is na haar.

Sy gaan terug stad toe en daar moet sy hoor dat ’n vriendin en haar minnaar ontvoer is. Saam met haar oudkollegas in die polisie, en veral saam met kolonel Nick Malherbe, begin sy ’n soektog na die twee.

"Soos een van die karakters waarneem, is hierdie soektog soos ’n legkaart waar stukkie vir stukkie ingepas word," het Cas van Rensburg in Volksblad (3 April 2017) geskryf. "Die eienaardige ding is dat ’n mens geen oomblik verveeld raak nie. Terwyl niks asemrowends gebeur nie, word die spanning volgehou. In aansluiting hierby is die manier waarop die gebeure in Dubbelspel hanteer word. ’n Mens sou verwag dat lesers wat dit nie gelees het nie, iewers in die boek ’n aanduiding sou kry van wat vooraf gebeur het. Adriaanse is meer subtiel. Hier en daar is daar ’n skuins verwysing; ’n legkaart binne ’n legkaart. Soos gesê: Slim.

"Kennismaking met die karakters is nogal verkwikkend. Adriaanse het ’n slag met die inklee van verskillende mense. Dis opmerklik hoe sy karakters deur hul taalgebruik definieer. (...) ’n Karakter soos Ellie word amper ’n huisvriend. Sy is hardegat, befoeterd, weerloos en het ’n diepe hartseer wat soos ’n sluier oor haar hang. (...)

"Tussen haar en Malherbe is daar ’n vertrouensbreuk en hulle sit gereeld vas. Die leser kan egter amper die diepliggende aangetrokkenheid tot mekaar ruik. (...) Nader aan die einde draai Adriaanse de vlam op. Mense word geskiet, die verdwene minnaar opgespoor en die ontvoerde meisie gekry. In hierdie gedeelte loop die spanning hoog, en hou ’n mens regtig asem op.

"Die beskrywing van die gebeure is ontstellend realisties, maar die leser word beloon met ’n ontknoping wat ’n verrassing in die oortreffende trap is. ’n Mens kan die boek net hiervoor lees."

Ook Elbie Adendorff is op LitNet baie positief oor Eindspel: "Tipies Adriaanse is die ingewikkelde storielyn en dat die karakters nie eensydig en stereotipies uitgebeeld word nie. Dit lees nie moeilik nie, maar tog is die storielyn nie eenvoudig en maklik nie. Spanning word deurgaans opgebou en die onsekerheid rondom Clara se ontvoering en Enzio se verdwyning hou die spanningslyn hoog. In hierdie storielyn word skerp kritiese kommentaar oor hedendaagse Suid-Afrika gelewer. Dit laat die leser nadink oor die probleme in ons land – veral wat misdaad betref. Die karakters in Eindspel is deurleefde karakters wat getrou uitgebeeld word. Al is die misdaadwêreld nie een waarmee almal sal kan identifiseer nie, is die karakters in daardie ruimte en die polisieruimte lewensgetrou.

"Die verhaal van Ellie is ’n lekker verhaal om oor ’n naweek te lees. Ja, daar is die voorspelbare gelukkige einde, maar die heldin, Ellie, is sterk, denkend en onafhanklik, net soos Nick ook sterk en onafhanklik is. Ellie is aan die begin van die roman stukkend: emosioneel en fisiek: 'En in die plek daarvan rooi, opgehewe hale, soos merke op ’n snybord. En een lang letsel van haar bors tot by haar naeltjie.' Aan die einde van die roman is sy heel: 'Dis soos hoop voel, besluit sy êrens in die nag. Hoop op iets normaals. Sy wil nie dink dat sy dit vir iemand laat doen het nie. Dit moet haar geskenk aan haarself wees. Hierdie behoort net aan haarself.' Maar Ellie en Nick is feilbaar en moes eers op hulle eie introspeksie gaan hou voordat die eindspel tussen hulle kan begin."

Jonathan Amid is die resensent van Eindspel in Rapport van 12 Maart 2017: "Adriaanse lewer besliste maatskaplik-politieke kommentaar op die aard en klimaat van misdadigheid in Suid-Afrika, asook die soort rolspelers wat die meeste by georganiseerde misdaad baat vind. Veral prysenswaardig is die insiggewende blik op die lewens van dié wat opgesaal is met die taak om van ons land ’n veiliger plek te maak.

"Die twee karakters wat die grootste impak maak met die lees van Eindspel, en die sentrale verhouding wat die sterkste ontgin word, is dié van Ellie en Nick. (...) Sowel Ellie as Nick is besonder goeie verkleurmannetjies, gebroke randfigure wat veg vir reg en geregtigheid en vergelding in ’n milieu waar dit al hoe moeiliker raak om die goeie van die bose te onderskei.

"Eindspel se grootste oomblikke (en daar is heelwat) is geskoei op Adriaanse se bereidwilligheid om minder op die plot en polisie-prosedure, en meer op karakterontwikkeling en handeling te fokus. Adriaanse se ervaring as liefdesverhaalskrywer is nuttig in die vorm van die teer, onvoorspelbare, humoristiese en uiteindelik bevredigende verhouding tussen die geregsdienaars."

Amid sluit sy bespreking as volg af: "Deur ’n onsentimentele, volwasse liefdesverhouding eerder as gewelddadige aksie en oordrewe strewe na spanning Eindspel se spilpunt te maak, bou Adriaanse ’n herkenbare dog steeds innemende wêreld waar die verhaal organies voortstu. Lesers sal hulle kan verkneukel in ’n vertelling wat dadelik vra na ’n herlees: Adriaanse-aanhangers kry waarde vir geld."

Oor watter boeke met haar kop kan smokkel, vertel Wilna aan Beeld (2 Julie 2012): "Sedert my vroegste kinderjare word ek deur stories bekoor en van my kosbaarste herinneringe het met stories en boeke te doen. Om een skrywer of boek uit te sonder is egter onmoontlik. Elke boek word teen ’n spesifieke agtergrond gelees.

"Sommige boeke verloor met ’n herlees daardie eerste betowering, terwyl ander jou keer op keer verlei. As ek net drie kan uitsonder, al drie boeke wat ek in die afgelope twee jaar gelees het, sal dit wees Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk, The ­Elegance of the Hedgehog deur Muriel Barbery en Death in Venice deur Thomas Mann.

"Ek het aanvanklik gesukkel om al drie te lees, want dit was nie stories wat dadelik tot my gespreek het nie, maar op ’n dag was ek binne die verhale vasgeknoop en kon ek nie anders as om dit enduit te lees nie.

"Om te besluit wat my in elke boek vasgevang het, is soos om kwik te probeer vasknyp. Een of twee gedagtes wat my ná die lees daarvan bygebly het, is die volgende: In Die sneeuslaper word verwys na die lewerikspieël wat vanaf die vroegste tye gebruik is om voëls na nette of skutters te lok. Vir my is die skrywer se ekonomiese woordgebruik en ryk beelde die spieël wat my begogel het. En die manier waarop sy die stories vervleg totdat jy nie meer weet wat jy glo en of jy moet waag om te glo nie.

"In Elegance of the Hedgehog het dit gevoel of ek ’n baie skaars afloergeleentheid kry. Nie net agter die deur van Renée, die concierge nie, maar ook al die ander karakters wat haar wêreld deel. Sy beskryf karakters wat jou lank bybly. Wat jou op ’n dag baie subtiel met jou eie vooroordele en vooropgestelde gedagtes konfronteer.

"Ek kon my nie vereenselwig met die hoofkarakter in Death in Venice nie en tog het ek êrens in die boek ’n emosie herken, of eintlik meer aan eie lyf gevoel. Dit was soos om omgeboul te word wanneer jy dit nie verwag nie.

"Soos ek genoem het, is dit moeilik om stories soos hierdie binne ’n paar woorde te beskryf. Dit is boeke wat gelees en herlees moet word. Daar is min dinge so lekker soos ’n naelbyt-spanningsverhaal, ’n goed geskryfde liefdesverhaal of ’n tong in die kies komedie. Maar daar is ook ’n byna pynlike lekkerkry in die lees van ’n boek wat so met my kop smokkel."

Publikasies:

As Wilna Adriaanse

Publikasie

’n Ongewone belegging

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2003 (Grootdruk)

ISBN

  • 0624040623 (sb)
  • 1415000158 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Alleenvlug

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2005 (Grootdruk)

ISBN

  • 0624041743 (sb)
  • 141500319X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die reuk van verlange

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624041212 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Serenade vir ’n nagtegaal

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042413 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Rebecca

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2005
  • 2009

ISBN

  • 0624042510 (sb)
  • 9780624048206 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hande wat heelmaak

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624043142 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met ander woorde

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044556 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die boek van Ester

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046837 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-prys vir Beste Liefdesroman 2009

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 1: ’n Ongewone belegging; Alleenvlug; Die reuk van verlange

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048053 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vier seisoene kind

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624048671 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir liefdesromans 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 2: ’n Heildronk op die liefde; Serenade vir ’n nagtegaal; Hande wat heelmaak

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624049302 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Omnibus 3: Die wingerd sal weer bot; Liefde is ’n kleur; Brug van woorde

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053859

Uitgewers

 

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

’n Klein lewe

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780624054672 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dubbelspel

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624068037 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eindspel

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780624075301 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels; Endgame 2019; vertaal deur Elsa Silke

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Wilmine Burger

Publikasie

Die wingerd sal weer bot

Publikasiedatum

2000 (Grootdruk)

ISBN

0799327875 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Heildronk op die liefde

Publikasiedatum

2002

ISBN

0799329622 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

LAPA Uitgewers se Liefdesroman-prys 2003

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brug van woorde

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799332526 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Liefde is ’n kleur

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799332542 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 Artikels oor Wilna Adriaanse beskikbaar op die internet

 
Artikels deur Wilna Adriaanse beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Wilna Adriaanse (1958–) appeared first on LitNet.

MM Walters (1929- )

$
0
0

Gebore en getoë
Verdere studie en werk
Publikasies
MM Walters as samesteller
MM Walters as redakteur
MM Walters as vertaler
Artikels oor en deur MM Walters beskikbaar op die internet

Gebore en getoë

Mattys Michielse Walters is op 23 Januarie 1929 op Moorreesburg in die Swartland gebore. Sy pa was Gerhardus Walters; sy oupa, MM Walters, was ’n bekende in onderwyskringe in die Swartland. Van sy familie was ook sakemanne en koringboere in die Swartland. Hy gaan aanvanklik skool op Moorreesburg, maar voltooi sy skoolloopbaan aan die Hoër Jongenskool op Wellington in die Wes-Kaap.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Thys Walters, soos hy beter bekend is, gaan studeer na skool aan die Hugenote Universiteitskollege in Wellington. Hy sit sy studie voort aan Unisa, asook aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy in 1972 sy MA-graad behaal met ’n verhandeling oor Peter Blum onder leiding van Merwe Scholtz.

Vanaf 1950 gee hy onderwys onder andere in Natal, by SACS in Kaapstad en op Ladismith in die Suid-Kaap. In 1960 word hy aangestel aan die Onderwyskollege op Graaff-Reinet as dosent in Afrikaans. Vanaf 1967 is hy verbonde aan die Paarlse Onderwyskollege as dosent in die Afrikaanse letterkunde tot in 1971, toe hy as dosent in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Kaapstad aangestel word – ’n pos wat hy tot en met sy aftrede beklee, waarna hy hom in Simonstad vestig. Hy is getroud en het twee kinders.

MM Walters se eerste gedigte word in die letterkundige tydskrif Standpunte gepubliseer. Later word hierdie gedigte saamgevat in sy eerste bundel Cabala, wat in 1967 verskyn. Hierdie bundel word in 1968 bekroon met beide die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys en in 1969 met die WA Hofmeyr-prys.

TT Cloete (Die Burger, 6 Oktober 1967) beskryf dit as ’n bundel van opspraakwekkende poësie, hoe rustig en effe dit op die vorm af by ’n eerste oogopslag ook al mag lyk. “Walters is een van ons digters wat met sy eerste bundel al iets buitengewoon te sê het en dit op die wyse van poësie buitengewoon vir ’n debutant sê, ook al deur die gebruik van ’n onverskillige taal in die grootste erns.” Cloete beskou ook hierdie bundel as waarskynlik die belangrikste eersteling-bundel wat na Breytenbach s’n verskyn het.

SJ Pretorius (Transvaler, 23 September 1969), wat saam met DJ Opperman die beoordelaars vir die Ingrid Jonker-prys was, spreek die volgende mening oor Cabala uit: “Walters is op sy beste in gedigte waarin hy objektiewe gestalte gee aan sy siniese kyk op sake. Dit kom veral te voorskyn wanneer hy van landelike beelde – veral dierbeelde – gebruik maak. (...) Wat ook te waardeer is, is dat Walters in ’n kompromie met die meer gebonde vers, ’n eie losser styl – byna ’n heffingsvers – ontwikkel het vir sy Reynaerde-agtige satiriek en La Fontaine-agtige fabelistiek. ’n Mens waardeer hierdie verse om hul on-, byna anti-sentimentele ruheid, waarin die realisme jou soms aan ’n Goya (Saturnalia) laat dink. Veel kan nog seker in die toekoms van Walters verwag word. Hierdie werk is eg.”

In sy huldigingswoord met die toekenning van die Eugène Marais-prys aan Cabala sê PD van der Walt (Jaarboek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1968) dat die selfstandigheid van die digter hom seker die sterkste openbaar in die satiriese poësie in hierdie bundel. “In dié opsig lewer Walters baie beslis ’n bydrae tot die Afrikaanse digkuns wat eintlik arm is aan die gerypte satiriese vers. Gedigte soos dié van Walters verstoor die idille, vestig die aandag op seker misstande in ons samelewing. Die satire is skerp en moedig, maar die digter is nooit beledigend of haatlik nie; daarvoor is hy poëties ook te vindingryk (...) Maar bowenal kom Walters in aanmerking omdat hy hom nie deur allerhande modes en modetjies laat heen en weer slinger nie, omdat hy hom besig hou met ’n wêreld wat hy ken en omdat hy met sy mag oor woord en beeld, belewenisse en probleme kan oorhewel na die gebied van die poësie. Die geheelindruk wat die bundel Cabala laat, is dat hier ’n digter aan die woord is met ’n sterk ondersoekende houding teenoor die lewe, dat dié poësie ’n selfverworwe neerslag is van sy geestelike verkenning, dat Walters iemand is met waaragtig poëtiese talent en vermoë.”

Merwe Scholtz (Die Burger, 28 Oktober 1969) sê in sy motivering vir die toekenning van die WA Hofmeyr-prys aan Cabala dat dit vir hom geen verrassing is dat Nasionale Boekhandel ’n versetdigter met ’n prys bekroon het nie. “Die Pers was nog altyd lojaal teenoor werklik lojale verset. Walters se verset is dikwels ’n soort hartseer oor die heroïese in ons tradisie wat ons ten dele verloor het. Dit geld vir baie van sy gedigte, hoewel Walters ook veel meer is as net ’n versetdigter. In baie van sy werk is die digter satirikus, hekelaar. Hy praat pront.”

Die Paarlse Opleidingskollege het in 1969 besluit om op ’n oorspronklike manier tot die fonds vir die Afrikaanse Taalmonument by te dra. MM Walters, wat senior lektor aan die Kollege was, het ’n spesiale geleentheidstuk in verse oor Afrikaans geskryf. Studente het dit opgevoer en die inkomste is in die monumentfonds gestort. Die naam van die stuk is Taalfees en twee vertellers tree op om die geskiedenis en ontwikkelingsgang van die Afrikaanse taal aan die gehoor voor te dra.

Walters is ook in 1970 deur die Paarlse tak van die Afrikaanse Taal en Kultuurbond gevra om ’n geleentheidstuk vir daardie jaar se Taalfees te skryf.

In 1969 word Walters se tweede digbundel, Apocrypha, deur Nasionale Boekhandel gepubliseer. In Die Huisgenoot van 27 Maart 1970 skryf die resensent dat die verse ’n bietjie geduld vra. Al begin ’n mens nie sommer daarmee ’n heftige vriendskap met die digter te sluit nie, sal jy met toenadering van jóú kant in sy geselskap onverwagte plesier vind.

PD van der Walt (Transvaler, 29 Desember 1969) skryf dat Walters in hierdie bundel sy digterlike vindingrykheid en veral sy fyn satiriese talent bevestig het.

Oor Heimdall, Walters se derde bundel, skryf AP Grové in Hoofstad van 22 November 1974 dat ons hier poësie het wat waarskuwend die aandag vestig op onheilstekens van die tyd, gevaartekens in ons gemeenskap. “Dis egter nie poësie wat in die proses suur of swaarwigtig wil wees nie; dit wil eerder op speelse, plek-plek geniepsige wyse en met ’n jeugdige, byna kwajongagtige glinstering in die oog die spot dryf met alles wat lyk op vertoon, lamsakkigheid of vernaamdoenery. Naas die kompromislose verset teen aanstellerigheid bied hierdie verse ’n gesonde aardsheid en eerlikheid. Menslike begrip en spot lê soms verenig in dieselfde gedig, soos bv te sien is in die pragtige "Hoekie vir eensames". Terwyl daar gespot word met dié soort rubrieke, kry ons terselfdertyd ’n ontroerende kyk op die menslike situasie en die onvermydelikheid van die oudword.”

Fanie Olivier (Rapport, 16 Maart 1975) beskou hierdie bundel van Walters as sy sterkste en belowendste bundel tot op daardie stadium, veral vanweë die groter deernis wat hy met sy “slagoffers” het en die werklik goeie integrasie van mitologiese, Bybelse en digterlike materiaal, sowel as sy vermoë om binne ’n betreklik vaste versvorm die rykdom van ons taal te ontgin.

In 1975 wend Walters hom na ’n nuwe genre en verskyn die eerste van sy dramas, Die vroue van Kores: ’n spel oor die lot van mense. Die geskiedenis waarop hierdie versdrama gebaseer is, kan ’n mens breedvoerig in die Bybelboek Esra vind: die Israeliete wat teruggekeer het uit hul Babiloniese ballingskap en hul stad begin herbou – en dan deur die profeet aangesê word om al die “vreemde” vroue in hul midde (die Persiese “vroue van Kores” met wie hulle in ballingskap getrou het en wat saam met hulle na Kanaän teruggekom het om hulle lot met hulle te deel), na Babilon terug te stuur ten einde die volk suiwer te hou. Volgens André Brink slaag die stuk ás stuk nie, hoewel die boodskap lofwaardig is. Meestal praat die figure nie werklik binne die konteks van hul stuk met mekaar nie, maar spreek hulle óns toe, onderrig en leer en profeteer hulle in óns rigting. Tog hoop Brink opreg dat die drama oor die radio gehoor sal word.

In 1975 word Walters se geleentheidstuk vir die Paarlse Taalfees in Augustus 1972, Die wingerdstok sal rank, gepubliseer. Na die opvoering in die Paarl skryf KS in Rapport dat dit so maklik brakdroë volkskultuurheid kon geword het, maar dat MM Walters se druiwe soet is. Hy het die ou soort lote vernuftig weggesnoei. Hy bou rondom die taalstryder ds SJ du Toit ’n verhaal wat met genoeg intrige die taalgeskiedenis lekker vertel. In Die Transvaler word geskryf dat hierdie stuk eerder ’n tablospel is as ’n drama en dat dit daarin slaag ten spyte van gebreke soos breedsprakigheid.

In sy volgende drama, Miskien woon julle onder ons, keer Walters weer terug na Bybelse stof. Hy lê die verhaal van die Gibeoniete bloot wat onder valse voorwendsels ’n verdrag met die Israeliete sluit. Dit red hulle lewens, maar hulle word tot slawerny verdoem. In Walters se werk fokus hy veral op die aanloop tot die besluit wat Gibeon geneem het om ’n vreedsame uiteinde vir die probleem te kry.

Dorothea van Zyl resenseer die drama in Die Burger van 29 Mei 1979 en volgens haar maak die interessante perspektief op die Bybelse gegewe, die aktualiteit, ens ongelukkig nog nie ’n goedbeplande stuk groots nie. “Daarvoor bly die karakters te veel verteenwoordigers van standpunte en te weinig mense. [Dit] is nogtans ’n verdienstelike bydrae tot ons dramaliteratuur.”

Vir sy volgende publikasie wend Walters hom weer tot die poësie en weer tot die satire. Saturae word in 1979 deur Tafelberg gepubliseer en die belangrikste temas daarin is die ydelheid van die mens, die betreklikheid van ons oordele wat dui op ’n gebrek aan perspektief, en ook versteurde prioriteite.

Johann Johl skryf in Volksblad (6 Februarie 1980) dat die vermenging van ’n elegiese toon met die satire binne ’n satiriese opset ’n distansiëring bring, ’n op-’n-afstand-beskryf in die spel, en tas die werking van dié satires en die satire self dus wesenlik aan. Die clichés en bekende gegewens uit ander bundels val in dieselfde kategorie en skaad die impak wat andersins tot oortuiging sou kon lei.

Met die verskyning van Walters se klug, Drakenstein. My Drakenstein skryf André Brink (Rapport, 5 September 1982) dat dit Walters op sy mees vaardige in die genre van die drama toon en dat dit genoeg egte gevatheid en vlotheid bevat om die maagsnare te kielie. Die opset is baie eenvoudig, naamlik die ontdekking, deur ’n staatsbeheerde organisasie Soekom, van olie in die Drakensteinvallei.

Walters se vyfde drama, Oor die limiete, is ’n opdragwerk vir die honderdste bestaansjaar in 1986 van die Goodnow-saal uit die dae van Andrew Murray toe die gebou deel was van die destydse Hugenote-seminarie op Wellington. Die stuk is gesetel in die stryd van Ware Afrikaner, Frans Malan, teen verandering op Wellington totdat sy vrou en dogter, in hul ondersteuning van Murray se seminarie en sy sogenaamde “liberalisme”, teen hom draai. Die stuk is in Oktober 1986 opgevoer en in 1988 deur Perskor gepubliseer.

MM Walters is ook die skrywer van drie boeke oor onderskeidelik die Weskus, Saldanhabaai en die Swartland, sy geboortegrond. Christo S Botha was die fotograaf in Droom van die Weskus, waarvoor Walters die byskrifte geskryf het met enkele verse tussen mymeringe wat aansluit by die foto’s. In 1990 verskyn Die Swartland is my tuisland: ’n nostalgiese reis. Die foto’s is deur Siegfried Behm geneem, wat ook verantwoordelik was vir die foto’s van Die Weskusvan die Kaap wat in 1998 deur Tafelberg uitgegee is.

In 1994 word Walters se bundel satiriese essays Saturae: die essays by Tafelberg gepubliseer. Hennie van Coller skryf in Volksblad van 9 Januarie 1995: “Hy bewys dat hy die derde satiriese genre, die essay, net so vlot kan hanteer as die satiriese poësie en drama waarmee hy al naam gemaak het. (...) Hierdie versameling essays bevat vermaaklike geleentheidstukke vol humor, skerp kommentaar op eietydse waardeoordele en indringende bevraagtekening van geykte ‘universele’ waarhede. Dit alles in geslypte Afrikaans waarin moeiteloos oorgeskakel word van register en selfs variëteit. ’n Satirikus veg nie met ’n veer nie, maar met ’n rapier. Wees daarom gewaarsku: ’n mens kan dié boek nie ongedeerd neersit nie.”

Volgens Fanie Olivier (Beeld, 29 Julie 1996) sluit Walters se volgende digbundel (sy eerste sedert Saturae) in 1996, Sprekende van God, direk by sy vorige vier bundels, sowel as sy bundel hekelstukke, Saturae: die essays, aan. Van die heel eerste vers af word die vertroostende waarhede ondermyn. “God is geen sekerheid nie, altans nie in die sin wat ons dit voorstel nie. Hy verken in die 66 verse die gesprek oor die godheid van die tyd van die Grieke tot hier digby die einde van die twintigste eeu.” Olivier meen dat Walters met hierdie digbundel sy belangrikste bydrae nog tot die Afrikaanse poësie lewer en ’n betekenisvolle stem in ons religieuse digkuns word.

George Weideman (Oor skrywers en boeke, Afrikaans Stereo, Junie/Julie 1996) meen dat die satiriese element nie afwesig is in Sprekende van God nie. “Die satirikus wil, sonder om noodwendig moralis te wees, bewus maak van wantoestande of wanopvattings. Indien ons die siening moet glo dat die satirikus óf remediërend wil spot, óf dat daar ‘geen helende warmte in sy lag’ is nie, dan verskuif Walters met hierdie bundel die grense.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 7 Maart 1998) skryf dat Walters se stem met hierdie bundel sommer baie aan helderheid en resonansie wen en dat dit ’n waardevolle toevoeging is tot die Afrikaanse religieuse poësieskat.

Na ’n stilswye van bykans nege jaar word Walters se volgende bundel, Satan ter sprake, in 2004 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Joan Hambidge (Volksblad, 18 April 2005) beskou Walters as ’n bestendige digter en ’n voorste satirikus binne die Afrikaanse digkuns. In hierdie bundel gee hy ’n aweregse blik op die “geding met God”. Want om oor Satan te skryf, beteken dat jy ook óór en mét God praat. Volgens haar gaan hierdie gedigte teen haar geloofsiening in en sy beoordeel dit slegs as gedigte. “Soms is dit skerp, navrant in die uitwys van teenstrydighede (geloof helaas berus nie op redelike bewysvoering of logika nie), in skerp metaforiek. Dikwels is die gedig nog te veel betoog en te min vers. Maar vir wat dit wil wees, is dit ’n bundel wat nie-gelowiges sal behaag en waarskynlik menige predikant sal aanstig om hierteen te preek.”

In die 1990s is Walters die redakteur van die reeks Poësie uit verre lande wat deur Perskor uitgegee is en wat vertalings van Portugese en Spaanse gedigte deur Uys Krige bevat, asook vertalings deur Marthinus Versveld. Walters is self later verantwoordelik vir die bekendstelling van Chinese en Japannese gedigte in Afrikaans met die bundels Shih-Ching liedereboek en Aki no kure – Herfsskemering: ’n bloemlesing Japannese gedigte wat onderskeidelik in 2004 en 2006 by Protea Boekhuis gepubliseer is. In resensies deur Joan Hambidge en Gunther Pakendorf is dit duidelik dat hierdie twee boeke op elke poësieliefhebber se boekrak tuishoort.

Walters se werk is deur Johann Nel vir die verhoog verwerk en Praat van die duiwel, Uitverkoop!, Boer Loer en Ha-ha-ha! Afrika! is met groot sukses by Kunstefeeste en ander teaters landwyd op die planke gebring. Nel is die voordraer en Juanita Swanepoel die regisseur van hierdie stukke. Nel vertel aan Francois Smith (Die Burger, 7 Desember 2000) dat hy nie genoeg kan kry van Walters en sy werk nie. Die sukses van die vertonings het ook daartoe bygedra dat Walters weer gewild gemaak is. Volgens Nel rol Walters se poësie soos prosa van ’n mens se lippe. Hy sê dat om met Walters te werk ’n uiters verrykende ervaring is, miskien omdat hy, nes Nel, baie privaat is. Walters vul voortdurend Nel se teks aan met nuwe en aktuele verse, want “die satire se probleem is dat dit dateer, (...) maar sy gepubliseerde werk bly aktueel. En dit is die toets vir ’n satirikus.”

In 2004 skryf Walters die drama Die meester met Johann Nel en Pieter Retief in die rolverdeling en regie weer eens deur Juanita Swanepoel. Dit is daardie jaar by die KKNK opgevoer, sowel as by die Klein Libertasteater op Stellenbosch. Die onderwerp van Walters se spot is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel oor die dekades heen.

In 2015 is Praat van die duiwel weer tydens die Woordfees op Stellenbosch op die planke gebring nadat Walters die teks aangepas en bygewerk het om tred met die tye te hou. Tydens die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein in 2019 bied Johann Nel ’n praatjie aan oor MM Walters en sy werk as deel van Naln se “Hulde aan Helde”-reeks.

Volgens Cor Scholtz op LitNet word daar heerlik die spot gedryf met die belaglikhede en die verwronge waardes van ons onderwysstelsel, terwyl bytende kommentaar gelewer word op die heersende ideologieë wat die jeug van ons land se gedagtes oor die afgelope eeu gevorm het.

In 2011 word Braille-briewe by Protea Boekhuis uitgegee – Walters se eerste digbundel sedert 2004. Dit is weer ’n bundel satires en op LitNet skryf Charl-Pierre Naudé dat die bundel geskryf is as "briewe": "aan die Groot Onbekende", "aan Lucifer", die "ontslape Arnoldus" (Pannevis), aan die Ou Gode, en die Nuwe Gode; Calvyn kry ook ’n ou notatjie, en die "Boertjies in die Binneland" word ook vermeld.

Naudé gaan voort: "Die briefmotief herinner onmiddellik aan die briewe van Paulus, wat self ook ’n onverpoosde korrespondent was, en wie se geopinieerdheid oor die heelal nie hoef terug te staan vir Walters s’n nie, hoewel met veel minder humor gedoen as by renegaat-apostel Walters.

"Alreeds in die titel is ‘n groot gevaar vir Walters se huidige bundel geleë: die gestroopte helderheid van sy seggingsgwyse loop hier gevaar om te direk te word en sodoende die subtiliteit waarvoor hy bekend is, te kelder. Braille-briewe: geskryf vir die blindes.

"Maar die digterstem (j.w.w.) bou ook selfafstand in sy bundel in deur sake van twee kante te beskou, soos die brief aan die ou gode, wat onvermydelik jukstaponeer met die brief aan die nuwe gode. Die 'jy-weet-wie' oftewel 'j.w.w.' waarmee elke brief afgesluit word, suggereer iets van die uitgeslote, die profane, die apokriewe, die alter ego, die anima selfs – wat hier honend terugskryf aan die onbevraagtekende en onbevraagtekenende, piëtistiese 'sentrum' – en só sy eie plekkie in die annale opeis. Die effek is dikwels skrynend. En heerlik. As jy die brief aan Lucifer saam met die een aan Calvyn lees, wonder jy oplaas maar wie is die régte Lucifer ... Die brief aan Calvyn begin so: 'Verstaan my goed:/ Ek wil nie aanstoot gee nie.' Maar dis presies wat die digter wel gee, op die mees verteerbaar denkbare manier, omdat dit net so fyn en skerpsinnig gestel is.

"Sarkasme (die aspoester van humor) is selde so fynsinnig as in die afloop van die brief aan Calvyn, veral in die veelduidigheid van die woord 'lig', waar gesinspeel word op al die mense wat deur Calvyn tot die brandstapel verdoem is: 'Die vuur van louter liefde/ wat jy aangesteek het,/ is lank nie uitgewoed nie./ In die Genève wat jou naam dra,/ moet elke nuwe Servetus steeds lig loop.' Die woord 'kanon' kom onmiddellik op as jy Calvyn deur hierdie bril sien. Die kanon van die godsdiens, van kennis, selfs van die letterkunde. Want die satire is ’n uitkringende vuurtjie.

"Walters skryf in ’n effens gedrae, sonore en beeldryke Afrikaans wat wissel tussen erns en humor, swaarwigtigheid en speelse vlugvoetigheid. Woorde soos 'blufferige' bewyse; vrugbare jong meisies wat nie ophou 'molstoot' nie; die 'kerk van afsonderlike voortreflikheid'; 'die "windpomp-kerk" wat draai onder druk/ en wind pomp' ... dit hou nie op nie.

"In ’n onderhoud beskryf Walters homself as iets in dier voege: verknog aan die grond, bodemgebonde (my woorde), gebind aan sy mense. Hier is ’n uiters kritiese digter, maar hy bly deel van sy mense. Die posisie laat mens dink aan 'lojale verset', die beginsel van Van Wyk Louw. Dis ’n bundel wat dieper bespreking verg as wat ek hier geleentheid het om te gee. Dit beloon herhaaldelike lees en vervaal nie.

"Ja, daar ís slaggate waarin die digter trap. Waarna die slaggate beter daaraan toe is."

Op Versindaba is Zandra Bezuidenhout die resensent. Sy begin haar bespreking deur Walters te vergelyk met Juvenalis wat snydende, maar tog ook komiese kommentaar op die samelewing van die 2de eeu nC gelewer het. Die bundelopdrag lui dan ook: “Opgedra, ter afskeid aan Juvenalis” en Bezuidenhout skryf dat die woorde “ter afskeid” dalk daarop kan dui dat hierdie bundel dalk Walters se "afskeid" is van Juvenalis, asook van die satiriese versvorm, maar sy hoop van harte nie van sy rol as skrywer nie, want ’n mens kan jou dit nie indink dat die letterkundige mantel van MM Walters op iemand anders se skouers moet val nie.

Bezuidenhout gaan voort: "Getrou aan die aard van die satirikus gaan Walters hiperbolies en brutaal te werk. Hy stel 'ongeskikte vrae', soos Johann Degenaar na die aard van die filosofiese vraagstelling verwys het, want Walters is ten diepste ’n denker eerder as bloot ’n eietydse spotvoël soos dit op die oog af mag voorkom. Dit is die 'manewales van die mens', sy praktyke (of wanpraktyke) en sy gode (of afgode) wat hier ondersoek en bedink word, maar dan deur ’n werkwyse wat daarop gerig is om te ontbloot, te skok, te vermaak en desnoods te vervreem. Deur hierdie berekende retoriese truuk word die aandag vir die boodskap opgeëis, want soos die kabaretgenre wil die satiriese vers die toehoorder uitlok en uiteindelik tot nadenke stem.

"Die beeldende titel Braille-briewe kan geïnterpreteer word as persoonlike geskrifte aan ’n ontvanger wie se sig of insig by implikasie aangetas is. Die sender gee dus voor dat die opgehewe tekens van ’n kodetaal (’n metafoor vir die satire) nodig is om die boodskap in te skerp sodat dit letterlik aan die lyf gevoel word. Daarby is die briefvorm met sy informele toon by uitstek geskik om die distansie tussen die sender en ontvanger op te hef, en die leser by die argument te betrek. (...)

"In meerdere opsigte is die bundel tipies postmodernisties. Afgesien van die vermenging van hoë en lae stylregisters en situasies word intertekste mildelik maar funksioneel aangewend, grense word oorskry en niks is heilig nie, selfs nie die ou, gevestigde verhale of narratiewe waarvolgens die mens nog altyd sy lewe gerig het nie. Die subteks is dat mensgemaakte gebruike, gode en konstruksies opnuut bekyk en desnoods gedekonstrueer moet word. Hierdeur verkry die bundel ’n sterk intellektuele lading. Die erns waarmee die bundel open, rig ’n waarskuwende vinger dat 'die mens se manewales' ’n geheimenis bly waarvoor die spreker antwoorde soek en waarvoor hy hom tog met piëteit tot die ‘Groot Onbekende’ rig. Die krag van die bundel lê in hierdie wisseling tussen wete en nie-wete; tussen sekerhede en onsekerhede, lag en erns.

"Juvenalis het natuurlik in Latyn geskryf en volgens die stylgebruike van sy tyd ’n strenger versvorm hanteer. Walters skryf losser en gemakliker en die praattoon is in pas met hedendaagse ontwikkelinge in die digkuns. Daarby dien die gemeensame geselstrant in hierdie geval om die intieme aard van die brief na te boots. Lesers sal maar hul verwagtinge van die poësie moet aanpas by eietydse digters se voorkeur vir die prosagedig waar struktuur en binding nie altyd afhang van bekende digpatrone nie. Soos in die denke, word daar in die vormgewing van die gedig wegbeweeg van 'rigoreuse rituele, reëls en reglemente'. Die hedendaagse vers, mits dit noukeurig gekonstrueer word, verkry ’n eiesoortige struktuur wat gebaseer is op die inherente klank, ritme en melodie van taal, en op goedgekose sleutelwoorde en beelde wat met mekaar verband hou. Dit is juis deur die manier waarop die digter die taal hanteer dat die informele styl ’n poëtiese kwaliteit verkry. By tye laat Walters egter die spanning verslap en gaan hy te direk en betogend te werk. Ook steur hy hom opsetlik en opsigtelik min aan politieke korrektheid, waarteen daar op sigself geen literêre besware is nie, maar die fasiele rym en gebrek aan subtiliteit, hoe speels ook al, pas na my mening nie by sy statuur as digter nie. Maar ook hierin wou hy waarskynlik die grense van die elitistiese poësie oorskry."

Bezuidenhout sluit af: "Dit sal sinvol wees om Walters se jongste bundel saam met sy hele oeuvre te lees of herlees, met inbegrip van sy meevoerende vertalings van Chinese en Japannese gedigte. Lesers sal nie koudgelaat word deur hierdie digter se werk nie. En diegene wat al saliger is (indien wel!), sal by tye in die graf omdraai, warm of koud, met permissie gesê."

Fanie Olivier beskou MM Walters as die voorste satirikus onder die huidige geslag skrywers en ook miskien die enigste wat dit as genre bestudeer en deurlopend beoefen.

Walters se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde kan opgesom word in Riana Scheepers se woorde: “In enige letterkunde is die satire ’n skaars, en ’n moeilike genre. Die satirikus se bydrae is een van die eksotiese speserye wat ’n bitter ondertoon het, maar dan ook dié bydrae wat diepte en substansie aan die letterkunde verleen. ’n Letterkunde (en ’n samelewing) sonder satire is onvoltooid.”

In sy resensie van Braille-briewe op LitNet begin Charl-Pierre Naudé sy bespreking met ’n oorsig oor die poësie van MM Walters: "Min digters het die soomlose resonerende en ritmiese slag van ’n Walters, waarin ’n sekere informele poëtikale indruk met onopsigtelike en baie effektiewe onderliggende rigour gekombineer word. Trouens, dis hierdie 'loslit' inslag van Walters se poëtiese woord, hierdie misleidende 'gemaklike' indruk, wat al gemaak het dat sy digkuns verkeerdelik as 'soos prosa' beskryf is. Dat so ‘n beskrywing vir iemand moontlik kon wees met verwysing na Walters, sê baie oor die histories eng kategorieë waarmee ’n sektor van die Afrikaanse poësiekritiek werk. Walters se poësie bevat al die elemente van goeie poësie, hoewel nie altyd op die tradisionele manier nie.

"Eerder is dit werk wat ’n baanbrekende voorgangerrol vir die hedendaagse losser – en andersoortige – ritmes in die digkuns gespeel het. Walters is niks minder as ’n tegniese meester wat vir homself met hierdie spreektalige inslag ander ruimtes geskep het om te verken wat nie aan bod kom in die meer tradisionele, 'hegter' digkuns nie. Hy maak byvoorbeeld interessante kombinasies van die liriek met die beskoulike en die betragtende; en kombineer ook die betogende met die liriese.

"Betogende verse word met reg deur vele gesien as die teenpool van hoogstaande poësie, as satire wat die fyn balans van suggestie en meervoudige beduidenis ingeboet het, en dis dikwels ook so die geval. Maar soos alle aannames wanneer die digkuns ter sprake is, het hierdie aanname sy perke; dit het sy presiese plek waar dit sneuwel, en jy kan daardie plek gaan opsoek soos jy Bles Bridges se gedenksteen op die pad buitekant Bloemhof kan gaan opsoek, as jy so wil. Die spel met ironie en satire, die vindingryke en beeldende segswyses wat binne hierdie 'onpoëtiese' verband (betoging) by Walters voorkom en plek-plek so diggepak 'opdam', is ’n versagtende omstandigheid en maak die geheel weldeeglik digkuns. Hoewel die saak waarteen betoog word in die tyd enkelvoudig mag staan, is die kommentaar daarop deur die digter vindingryk en snaaks en só verkneukelend problematiserend – so veelvlakkig – dat die eenduidigheid van die saak waarteen betoog word, lankal nie meer eenduidig staan nie.

"Maar Walters verskil ook weldeeglik van die hedendaagse spreektalige en praatstromige  hierin: sy ritme is onmiddellik herkenbaar as klassiek, wat nie altyd by eersgenoemde die geval is nie.

"Overgesetsynde, en effens oorvereenvoudigend: jy hóór Van Wyk Louw en veral Peter Blum iewers in die agtergrond. Ritmikaal gesproke vind ek Walters een van die beste Afrikaanse digters van alle tye. Maar hier iewers – soos ook by sommige ander ouer digters – begin die appeltjie reeds op ’n peer te lyk, en nadere beskouing kan interessante gewaarwordinge oplewer.

"Dis interessant dat van die meer tradisionele poësie in Afrikaans soms sintakties so gedronge raak – soos ’n vel papier wat keer op keer na binne gevou word, as’t ware – dat daar eintlik nie meer van ritme sprake is nie. Ritmisiteit is dan veel minder deel van die effek as by sommige ander vorme van minder kriptiese poësie. Walters se vel papier vou egter keer op keer as’t ware eerder na buite uit. Dis poësie wat tegnies juis baie goed is, maar daar is aspekte daarvan wat nie onder die tradisionele plastiese kan ressorteer nie, aspekte wat buite-om die onmiddellik tegniese die beste beskryf kan word."

Met MM Walters se 90ste verjaardag op 23 Januarie 2019 skryf Daniel Hugo ’n artikel in Die Burger van 21 Januarie 2019 getiteld "’n Welverdiende voetstuk vir Walters op 90" om hulde te bring aan Walters as skrywer: "Die letterkundige kánon is ’n vreemde ding. Oor die statuur van sommige skrywers bestaan daar groot eenstemmigheid. Hulle staan stewig op hulle voetstukke in die literêre beeldetuin ... (...) Geen kanón kan hulle wegblaas nie; geen engel kan hulle uit die paradys van die geletterdes verjaag nie.

"Ander digters staan en rondtrap by die poort en kyk verlangend na die vakante voetstukke onder die weelderige lower van daardie lushof. (...)

"En dan is daar digters soos MM Walters wat deur sommige kanoniseerders bekritiseer en selfs geïgnoreer word, maar deur ander weer geloof en gelourier word. Hy staan dus halfpad tussen die hek en sy voetstuk wat vir hom wag. En Walters se poësie is so uniek dat daar werklik niemand anders is wat sy plek kan inneem nie.

"Walters was in ’n mate self verantwoordelik vir sy onsekere posisie. Hy het nooit deelgeneem aan openbare skrywersdebatte en bekgevegte nie, hy was nooit lid van ’n skrywersorganisasie nie en het ver weggebly van die literêre stromings en teorieë van die oomblik.

"As satirikus was dit natuurlik noodsaaklik dat hy ’n buitestander moes bly wat met ’n ontroebel oog kon kyk na die onnoselhede van die samelewing om hom, na die opgeblasenheid van die kerklike en politieke leiers, en na die karpatse van sy skrywende kollegas. Vanaf sy debuut in 1967 was hy ’n vlymskerp waarnemer eerder as ’n luidrugtige deelnemer."

Hugo wys voorts in sy artikel hoe Walters, wanneer dit by toekennings gekom het, misken is in sy loopbaan as skrywer. Hoewel hy drie pryse vir Cabala, sy debuutbundel, ontvang het, het die destydse moderator van die NG Kerk, Koot Vorster, hom in die pers aangeval as ’n vyand van die volk. In Perspektief en profiel, waarvan HP van Coller die redakteur was, is daar nie veel ruimte aan hom en sy werk bestee nie, en ook JC Kannemeyer is in die tweede deel van Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur nie baie beïndruk met Walters se poësie nie.

André P Brink het egter van Walters se gedigte in sy 2008-samestelling van Groot verseboek ingesluit, terwyl Walters se gedigte sedert 1975 in voorgeskrewe bloemlesings vir skole verskyn het. Van Walters se vertalings uit die Japannese digkuns is ook deur Brink gebloemlees, skryf Hugo: "Die vertalings het in 2006 verskyn onder die titel Aki no kure / Herfsskemering, Die nugtere, rasionele aard van Walters se geestelike pelgrimstog word mooi geëggo in die volgende haikoe van Karai Senryuu (1718–1790): ‘Zen-priester/ ná meditasie/ soek vlooie.’ (...)

"In latere bundels soos Sprekende van God (1996) en Satan ter sprake (2004) gebruik Walters sy enorme kennis van die teologie, kerkgeskiedenis en mitologie om sowel skerp satiriese as ontroerend persoonlike verse – ek dink veral aan ‘Haven om te landen’ – te skryf. Wat Koot Vorster en die Kerkbode destyds misgelees het, is dat die digter ’n opregte hoewel aweregse soeker na God is."

Daniel Hugo sluit sy artikel af: "En wat is die slotsom waartoe die digter, wat vandeesweek sy 90ste verjaardag vier, gekom het? In Sprekende van God staan die volgende reëls:

God sélf, die objektiewe, werklike, die Één
wat skuil gaan agter ons metafisiese projeksies,
bly op geen enkele wyse te benader.

"Matthys Michielse Walters het die afgelope halfeeu die Afrikaanse letterkunde verryk en verruim met sy andersdenkendheid en eiesoortige verse. Ek plaas hom graag op sy welverdiende voetstuk."

Ook ter viering van MM Walters se 90ste verjaardag vertel Gunther Pakendorf, ’n vriend van Walters, aan AJ Opperman in Beeld  van 23 Januarie 2019 dat Walters "eintlik nog nooit in pas was met die norm nie. Thys was nog altyd uniek vir sy tyd in ag genome die kritiek wat hy gelewer het. Selfs sy geboortejaar (1929) is jare lank as 1930 verkeerd op sy dokumente aangedui.

"Ek het hom in die 1980's ontmoet toe ons albei aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was. Ek dink ek het in die 1970's van sy werk bewus geword met sy kritiek teen die NG Kerk en sekere dominees wat hy in sy werk geopper het. Ek onthou dat Koot Vorster (die voormalige eerste minister John Vorster se broer) hom vreeslik kritiek op die hals gehaal het.

"Hy is ook nie iemand wat hom ’n rat voor die oë laat draai nie. Hy het nog altyd ’n afkeer gehad van skrywers met ’n opgeblaasde selfbeeld. Hy het ’n ongelooflike humorsin. So droog ... Hy het my al laat skater."

Zandra Bezuidenhout vertel ook aan AJ Opperman dat MM Walters as digter ’n groot talent het om kommentaar te lewer op die gemeenskap: "Daar is nie nog so ’n Afrikaanse digter wat die satiriese mes so raak kan inlê wanneer hy kommentaar lewer op die samelewing en selfs Bybelse inhoud aan die kaak stel nie. Sy tematiese inkleding strek egter veel verder. Wat styl betref, durf hy die kort Japanse versvorms aan, en het hy trouens van daardie soort verse in Afrikaans geskryf en vertaal. Van Walters se ander gedigte is deur Michiel Heyns in Engels vertaal.

"Nog belangriker is dat Walters sy uiteenlopende denkinhoud by wyse van verstegnies afgeronde verse vol verrassende wendinge oordra, en dit altyd vervleg met woord- en klankspel om die wind uit jou seile te haal, soos net hy dit kan doen. Hy is ’n unieke figuur in die Afrikaanse letterkunde wat mense opnuut behoort te lees."

Johann Nel, die akteur wat al verskeie van MM Walters se werke op die verhoog aangebied het en van sy verse op radio en by ander geleenthede voorgelees het, sê dat vir hom as persoon en sy persoonlike groei Walters se werk baie beteken het. "Hy het ’n ongelooflike teologiese kennis, maar ek dink nie ’n mens kan hom etiketteer wat geloof betref nie. Hy is Suid-Afrika se grootste satirikus wat poësie betref.

"As hy sy eie verse voorlees, is dit so ernstig. Hy klink eintlik soos ’n predikant. Selfs al is dit hierdie vlymskerp satire met inhoud waaroor ’n mens eintlik wil lag. Op sy verjaardagpartytjie wil ek beslis vir hom dankie sê dat hy vir soveel mense gedink het."

In reaksie op Daniel Hugo se huldeblyk skryf Johann Penning van Bloemfontein in Volksblad (28 Januarie 2019) dat Walters ’n "reus is wat deur baie volksgenote eerder geïgnoreer wil word. Sommige sou ’n vuurtjie rondom sy voete wou maak terwyl hy aan ’n paal vasgemaak is. Hy het ’n reuse-intellek, uiters skerp waarnemingsvermoë en ’n sensitiewe gees met die insig in die menslike toestand. (...)

"As satirikus is en was daar nog nie sy gelyke in Suid-Afrika nie. Hy kloof twak en nonsens oop tot op die been, en laat nuwe insigte oopgaan vir die leser. En dit in die keurigste Afrikaans. Hy het ’n ereplek in my heldegalery. ’n Reus inderdaad."

Vir Daniel Hugo (op Versindaba) is Walters se "Haven om te landen" een van die ontroerendste gedigte wat hy ken. Vanuit die stoepkamer van sy hooggeleë huis in Seaforth, Simonstad, hou die digter die aandskemer oor Valsbaai dop:

In die koue grys skemer van die Agterberg
laveer die laaste bote huis toe:
dun wit seile in ʼn wintersee soek
na ʼn haven om te landen.

Die meeue trek saam op Duikersklip
dig teen die donker en die wind
en oor die water hang ʼn hunkerende roep
na ʼn haven om te landen.

Die stomp neus van die Steenberg
los op tussen see en lug,
die nag word swart sonder lig wat wink
na ʼn haven om te landen.

En ou herinneringe en vertwyfeling
sak oor my soos ʼn swaar seemis
en heelnag deur dreun die branders en nêrens
is ʼn haven om te landen.

                      (Uit: Sprekende van God)

Terug na bo

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Terug na bo

MM Walters as samesteller

Die tiende muse: Afrikaanse satires . Johannesburg: Perskor, 1986 [ISBN 9780628030573 (hb)]

Terug na bo

MM Walters as redakteur

Poësie uit Verre Lande (reeks). Johannesburg: Perskor, 1991

Terug na bo

MM Walters as vertaler

Shih-Ching Liedereboek . Pretoria: Protea Boekhuis, 2004 [ISBN 9781869190415 (sb)]

Aki no kure – Herfsskemering: ’n bloemlesing Japannese gedigte . Pretoria: Protea Boekhuis, 2006 [ISBN 9781869190521 (sb)]

Terug na bo

Artikels oor en deur MM Walters beskikbaar op die internet 

 

Terug na bo

Bygewerk: 2019-06-06
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

The post MM Walters (1929- ) appeared first on LitNet.

Danie Marais (1971– )

$
0
0
Foto: Kabous Meiring

Sêgoed van Danie Marais

“So, as dit kom by die betekenis van literêre pryse, het jy ’n bietjie ’n gevoel van jou eie absurditeit en belaglikheid en terselfdertyd probeer jy wat jy doen, ernstig opneem. Ten minste kan ek nou sê daar is mense wat geglo het dat wat ek skryf, meriete het.” (Beeld, 14 Desember 2007)

“As mens bereid is om my skryfwerk gedigte te noem, dan wil ek daarmee aangaan.” (Beeld, 14 Desember 2007)

“Dis ’n baie moeilike balans om outobiografies te skryf. Jy wil ’n soort intimiteit met die leser hê, maar jy wil nie ’n punt bereik waar jy soos ’n flasher in die park, ’n emosionele streaker word nie. Jy wil jou ontbloot sonder om jouself heeltemal te wys.” (Beeld, 14 Desember 2007)

“Maar as dit kom by wat poësie is, dan dink ek as woorde by jou spook in ’n sekere volgorde, dan is dit poësie. En dit is vir my die belangrikste ding. Ek dink baie mense werk volgens ’n baie formalistiese rymskema of ding, terwyl ek nogal voel die idee of die storie of die toneel het eintlik sy eie struktuur en sy eie ritme. Vir my is dit eerste. Dis vir my ’n soort van outobiografiese shorthand.” (Beeld, 14 Desember 2007)

“Nostalgie is ’n tema soos dood, liefde of grootword – dit sal altyd relevant bly. As ’n mens gedurig huis toe verlang, word nostalgie egter iets wanhopigs.” (Die Burger, 4 Mei 2007)

Oor kritiek: “Ek is nog maar baie onervare wat dié aspek betref, maar dink ’n mens moet ’n balans tussen gesonde eiesinnigheid en ’n oopheid vir goeie kritiek probeer vind. Ek neem Andries Visagie se kritiek oor eenselwigheid ernstig op. Sulke bruikbare kritiek kan van groot hulp wees, maar ek dink nie ’n mens hoef kritiek ter harte te neem wat jou misverstaan laat voel nie.” (Die Burger, 4 Mei 2007)

“I hope people will find some comfort and understanding in my poetry that will make them feel less alone. My poetry does not change the cold facts, but I hope it will be a shot of whisky on a freezing night to anyone who experiences life the way I do.”

Waar begin ’n gedig? “Dis wanneer jy warm en koud raak oor die gewone goed rondom jou, dit ’n geweldige emosie roer. En die noodsaak by jou opdoem om hierdie knop in jou keel aan ’n ander oor te dra.” (Rapport, 16 Maart 2008)

“Om in ’n ander taal te leef en te werk, beteken om na jouself te moet luister in ’n weergawe wat nie noodwendig jou eerste keuse is nie. Aan die ander kant help dit jou om uit te vind watter dele van jou onlosmaaklik met ’n ander taal en plek verstrengel is. Duits en Duitsland het my vir die eerste keer laat besef hoe Afrikaans ek is.” (Beeld, 29 November 2006)

“Om Afrikaans te praat en te skryf, is vir my om na die Johnny Cash-weergawe van myself te luister. Of dit groot kuns is, weet ek nie en die stem en die opname krap ’n bietjie, maar dis die naaste aan die intieme essensie van die liedjie van my lewe.” (Beeld, 29 November 2006)

Oor opname in Groot verseboek: “Erkenning is vir skrywers die broodnodige troos dat al die gespartel nie heeltemal verniet was nie – iémand het gedink dit was die moeite werd.” (LitNet)

Oor sy praatstylverse: “Ek het beslis nie doelbewus iets nuuts probeer ter wille van vernuwing nie. Die ontwikkeling van enige skryfstyl is ’n organiese proses wat oor ’n hele paar jaar se skryf en weggooi en weer probeer, ontstaan.”

“Ek het daardie aand (in Duitsland by ’n poësievoorlesing) begryp dat die plek waar ek vandaan kom, die plek waar ek hoort en van weggevlug het en na terugverlang het, nie ’n plek op ’n kaart was nie. Dit was nie ’n plek waar jy kon afneem of besoek nie, maar ’n onthoude plek, ’n verbeelde met taal en rou emosie. Ek kon dit oproep soos ’n gees of deel met ou vriende, soos herinneringe en verlies, maar ek kon dit nie bewoon of terugwen nie. Dit was ’n plek wat veral  uit Duitsland baie na nêrens gelyk het, ’n plek vol bekrompenheid, misdaad, zeffers, Bybelversies, geweld en Apartheid. Dit was baie dinge: onvoorwaardelike ouerliefde en  begrip, my eerste soen, erfskuld en skoolsokkies, wrewel, misverstande en vakansies by die see. Maar dit was in 1998 bowenal vir my ’n noue ontkoming.” http://www.oulitnet.co.za/youngwriters/
danie_marais_a.asp

“Die gedigte in In die buitenste ruimte handel oor situasies waar mens magteloos voel. Die poetry waarvan ek hou, is soos marmer monotone wat aanhou drone, maar dit irriteer my. Ek wil net sê wat ek wil, sonder om na te boots en te klink soos ’n NG-predikant of ’n Jackie Nagtegaal in Afrikaans.” (Beeld, 3 Oktober 2010)

“Harold Bloom het eens gesê digkuns is soos ’n secular prayer en dat jy hoop iemand hoor. Daarmee stem ek saam. Vir my is digkuns ’n coping mechanism, iets om die estetiese waardigheid aan jou beteuterde bestaan te gee.” (Beeld, 3 Oktober 2010)

“Ek was al baie na daaraan om die digkuns af te sweer, en ek wil graag glo dat ek sou kon. As jy ’n rekenmeester is, sal jy altyd ’n goeie balansstaat kan optrek, want dis deel van jou professionaliteit. Maar om kreatief iets van waarde te maak, moet daar ’n persoonlike kompulsie en obsessie by jou talent en visie kom. In die groter kosmiese prentjie maak dit nie regtig saak of ek nog twee boeke skryf, of vier, of geen nie. Dit maak nie vir my sin om te skep as jy die mense rondom jou gaan verwaarloos in die naam van jou talent of kuns nie.” (Die Burger, 5 Julie 2014)

“Ek kan eksperimenteer en vrae stel sonder om die uitkoms op ’n manier te probeer dokter. Om só te dig, is eerder ’n manier van dink as om mense te probeer leer of help. En soms kry jy ’n manier van begrip, maar dis nooit gelyk aan ’n eenvoudige oplossing of plan van aksie nie.” (Rapport, 6 Julie 2014)

“Gedigte skryf is ’n bietjie soos adverteer in die hoekie vir eensames. Of soos om konfyt te maak en goed in te lê. Of soos om die rumoer vir ’n oomblik te laat stil word.” (Beeld, 12 Desember 2010)

“Dit voel vir my of die ruimte vir analise, en veral vir kuns en kultuur, kritiek verskriklik krimp. Daar is iets ernstig wat verlore gaan. Kritiek is ’n manier om die wêreld te lees en om sin te maak van die manier wat mense iets doen.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer)

“Ek was, net soos Fokofpolisiekar se bendelede, reeds as tiener baie bewus van al die leuens wat stelselmatig oor 12 skooljare lank aan ons verkoop is. Ons was baie geneig om alles te wantrou wat die grootmense voor jou gedoen en gesê het. Jy het, sommige van ons wel, jou lewensmodelle oorboord gegooi.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer)

“Daar is soveel goed waaroor ek gewonder het in my twintigs. Ek het gewonder of ek ’n tatoeëermerk moet kry en gewonder wat ek moet kry en waar. Dan het ek nou weer langhare en oorbelle gehad en ’n leerbroek en dan dink ek ek moet nóg ’n leerbroek kry. En nou, twintig jaar later, dink ek waarom op aarde het ek my tyd daarop spandeer! Living is not an exact science.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer)

“Ek dink een van die clichés in die lewe en van ons tyd wat ons so baie hoor, is die ding van ‘leef jou passie, volg jou drome’. As jy genoeg kunstenaars en skrywers ken dan besef jy daar is baie mense wat wurg aan hulle drome en wat vrek aan hulle passie. Die probleem is, om regtig ’n passie te hê maak jou weerloos, maar dit maak jou ook uitbuitbaar. Ek dink as mense wil aanhou met hierdie idee van ‘leef jou passie en dan sal jy gelukkig bly’, dan moet daar op ’n manier, as dit vir die samelewing belangrik is om hierdie goed te hê, meer daarin belê word.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer)

“Die verskil tussen my en 20 jaar gelede, is dalk, as ek nou 20 jaar in die toekoms aan myself verskyn, ek dalk sal luister. Ek is nou baie meer nederig as wat ek 20 jaar gelede was.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer)

“Daar is sekere soorte pyn en lyding wat net oor jou pad kom. As jy mense lief het, is dit net onafwendbaar. Romantiese illusies wat aan skerwe spat, is ’n ander soort pyn as wat jy ’n ouer verloor, wat jy weet gaan gebeur. Daai romantiese illusies wat ’n mens koester, hou ’n besondere gevaar in.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer)

“Ek dink daar is twee goed wat ek wens mense vroeër vir my gesê het. Ek wens ek het nie destyds vir die voorligter geluister wat gesê het as jy ’n familie wil onderhou gaan doen BCom regte met regsvakke nie. Ek het geweet ek wil eerder filosofie en tale studeer. Ek het baie kompromieë in die laaste 20 jare aangegaan om myself meer sekerheid te gee as wat filosofie en tale my sou gee en ek het altyd weer teruggekom daarby.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer)

Gebore en getoë

Daniel Marais is op 30 Mei 1971 in Kimberley gebore. Sy pa en ma het in Goodwood ontmoet en sy ouma-hulle het in Parow-Noord gebly. Sy pa moes sy ingenieursbeurs wat hy van die destydse Spoorweë ontvang het, in Kimberley gaan afwerk en dis waar Danie toe gebore is.

Hy gaan skool in Pretoria. En matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Menlopark. Hy vertel dat hy ’n baie dromerige mannetjie op skool was. “Op laerskool het ek krieket en rugby gespeel en ek wou beroepstennisspeler word. Ek het ball sense gehad, maar ek was nogal lui. Daar was ’n stadium wat ek dominee wou word, omdat dit so lekker gelyk het as my dominee-oupa, Dirk Jordaan, sy gemeente seën. Hy was ’n dominee in die Sendingkerk in Distrik Ses,” vertel hy aan Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007).

Danie beskryf die omgewing waarin hy grootgeword het as ’n veilige middelklas huis. Sy pa, die ingenieur, het van klassieke musiek en wyn gehou, maar het nie veel gedink van die letterkunde nie. Dit was sy ma, ’n bibliotekaresse en ’n Afrikaanse onderwyseres, wat aan hom die wonder van die geskrewe woord geleer het. Sy het daarop aangedring dat Danie en sy broer na Johannes Kerkorrel moet gaan luister. “Sy het geweet iets belangriks was aan die gebeur.” (onderhoud met Fred de Vries)

Verdere studie en werk

Na skool gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy B Com met regsvakke studeer soos dit ’n goeie seun betaam wat na sy pa se raad moet luister, aangesien dit die pad is na ’n bourgeois droom van ’n goeie werk, ’n goeie inkomste en ’n liefderike vrou. Hy behaal sy graad in 1993. Op universiteit het Danie altyd gelag vir die ouens wat hulle “silly little poems in little books and magazines” publiseer. (in ’n onderhoud met Fred de Vries)

Hy ontmoet ’n Duitse uitruilstudent in Suid-Afrika en in 1992, sy finale jaar, is hy sak en pak agter die meisie aan. Hy was maar 22 jaar oud. In Duitsland het hy as au pair werk gekry om sodoende naby die meisie te wees. Sy visum het egter verval en dit was haar voorstel dat die twee van hulle moet trou. Op 23-jarige ouderdom is Danie toe getroud. Hy vertel aan Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007): “In jeans en met lang hare voor die magistraat in Oldenburg. My pa, Kallie, was daar en hy het nogal moeite gedoen om ons onder ’n herfsboom af te neem. Maar my pa lyk besonder ongelukkig op die foto’s. Ek moet sê daai foto het nooit my ouma se mure in die ouetehuis gehaal nie; dit het nie vir haar soos ’n troue gelyk nie.”

In 1995 studeer hy Duits, wiskunde en filosofie aan die Carl von Ossietzky-universiteit in Oldenburg in Duitsland en gaan gee klas by ’n laerskool in Bremen.

Hy vertel verder aan Kirby van der Merwe: “Ons het te vroeg getrou. Sy het my nooit haar man genoem nie, altyd haar boyfriend. Ons het nie ringe of vanne geruil nie. Ons het geweet dit gaan ’n onkonvensionele huwelik wees, maar ons het nie geweet wat dit veronderstel was om te wees nie. Ek was baie verlief. Sy was ’n bietjie soos Betty Blue: sy het haar emosies ten volle geleef. As sy vir jou kwaad was, was sy vir jou kwáád. As sy vir jou lief was, was sy vir jou verskriklik lief. Só het die huwelik ’n lang en eensame dood gesterf.”

Danie se verlange na Suid-Afrika was op ’n stadium allesoorheersend, maar sy vrou het nie kans gesien om terug te kom nie. “Ek was totaal  depressief. Sy was ’n argitek daar en het nooit vir haar ’n toekoms hier gesien nie.”

Danie beskryf die nege jaar in Duitsland as “die donkerste tyd in my lewe, nege verloopte jare”.

Oor sy verblyf in Duitsland vertel Danie in Die Burger van 4 Mei 2007 dat wat hy daar gemis het, is die intimiteit en ongekunstelde warmte wat daar tussen mense is en wat ’n mens nie sommer maklik in Duitsland kry nie: “Die infrastruktuur werk goed genoeg vir mense om nie op mekaar aangewese te wees nie en in ’n digbevolkte land word elkeen se private sfeer ’n beskermde heiligdom. Dit lei egter tot groot vereensaming en ’n wedersydse openbare wantroue.” Hy mis die biblioteke en die musiek-, fliek- en teaterkultuur waarvan daar baie is. En ook goeie openbare vervoer.

En toe in 1996 begin Danie gedigte skryf. Hy vertel aan Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007): “Ons het in baie linkse kringe beweeg en ek dink dit was vir haar ’n verleentheid dat ek ’n wit Suid-Afrikaner was. En omdat dit vir haar ’n verleentheid was, het ek altyd politiek verdag gevoel. Ek het oor my agtergrond gevoel soos ’n ou in die tronk: jy wil so half iets goeds daarin sien, maar jy kry nie juis iets goeds om daaroor te sê nie. Maar Suid-Afrika was nogtans die plek waar jy grootgeword het, jou eerste soen gehad het, jou geboorteland. En op die ou einde het ek gevoel ten minste kan mense in Suid-Afrika makliker sien waar jy vandaan kom. Jy word nie so ten volle op jou baadjie getakseer nie.”

Na hy in 2002 na Suid-Afrika teruggekeer het, het Danie aan ’n Duitse skool in Pretoria onderwys gegee en in 2003 begin om vryskutwerk vir Beeld, Rapport, Insig en LitNet te doen. Danie was die redakteur van LitNet se webruimte vir Afrikaanse poësie en skryf op ’n gereelde basis ’n rock-rubriek vir Beeld en Die Burger. Hy is ook ’n fliekresensent van Die Burger. Hy was teksredakteur van Visi en subredakteur en artikelskrywer van Boeke-Insig voordat dit gesluit het, asook adjunkdirekteur van Rapport Boeke. In 2007 was hy mede-aanbieder van The unhappy hour, ’n alternatiewe musiekprogram, op Bush Radio saam met Clive Smith. Hy is tans vryskutjoernalis in Kaapstad, asook rockresensent van Die Burger.

Hy is weer getroud met Karlien de Villiers, ’n grafiese kunstenaar, en vertaal ’n strokiesprent van haar, My mother was a beautiful woman in Duits (Meine Mutter war eine schöne Frau). Karlien doseer grafiese kuns aan die Universiteit Stellenbosch en haar solo-uitstalling Who can a monster blame for being blue? was in 2007 in die Erdmann-galery in Kaapstad.

Danie en Karlien is intussen geskei. Hy en sy dogter, Lea (op ’n gedeelde basis), en Levinia sy kat bly in Rosendal in Stellenbosch.

Op 22 Maart 2019 is Danie met Carine Terreblanche getroud. Hulle woon in Stellenbosch. Carine is ’n senior dosent en koördineerder van juweliersontwerp by die Departement Visuele Kunste aan die US en haar pa was Sampie Terreblanche.

Danie noem die name van Raymond Carver, Philip Larkin, Anne Sexton, Fernande Pessoa, Ted Hughes, Czeslaw Milosz, Gert Vlok Nel en veral ook die vroeëre verhalende Breyten Breytenbach van Koue vuur en Die hand vol vere wat ’n groot impak op hom gemaak het. En musiek was ook altyd daar: “Een van die eerste plate wat ek gekoop het, was Bruce Springsteen se Born in the USA en Prince se Purple rain. En van toe af was ek verslaaf. Veral op die lirieke van Lucinda Williams, Emmylou Harris en Johnny Cash se baie gestroopte country blues. Daar is ’n pragtige intimiteit en eerlikheid wat ek nie by ander musiek kry nie: Cash het dit reggekry om iets positief te maak uit sy versukkelde roots. Hy het iets eerlik, eg en aards geskep. Hy het dit reggekry om iets te maak uit ’n agtergrond wat eintlik agterlik was. En natuurlik Leonard Cohen, Tom Waits, Nick Cave, Bob Dylan, PJ Harvey. Dis almal helde,” in ’n onderhoud met Kirby van der Merwe in Beeld, 14 Desember 2007.

In 2014 was Danie by Bruce Springsteen se konsert en hy vertel aan Mizan van der Merwe (in Reflekteer): “As jy ouer word, word baie dinge minder indrukwekkend, behalwe Springsteen, hy word meer indrukwekkend. Baie van my ander helde is so half ironies en subversief en Springsteen kry dit reg om hierdie groot ironielose kuns te maak, wat jou by tye net bly laat voel dat jy gebore is en asemhaal, maar terselfdertyd bring hy jou onder die indruk dat die manier hoe ons nou leef, dwaas is en dat ons nie so kan aangaan nie en dat daar tog ’n beter manier van saamleef moet wees. Dit is vir my ongelooflik wat hy kan regkry.”

Danie se gedigte word opgeneem in Nuwe stemme 3, Honderd jaar later en My ousie is ’n blom. Andries Visagie het Danie as die sterkste stem in Nuwe stemme 3 beskou. Hy word in 2005 genomineer vir die DaimlerChrysler Poetry Award. Sy gedigte is ook in die Stellenbosse poësietydskrif Vlugskrif gepubliseer, asook in die Nederlandse literêre tydskrif Meander. In 2007 is hy genooi om aan die Poetry International Festival in Rotterdam in Nederland deel te neem.

In 2018 is van Danie se gedigte opgeneem in The new century of South African poetry wat deur Jonathan Ball uitgegee is. Hieroor was Danie baie bly, vertel hy aan LitNet.

’n Konsep vir ’n drama (Wit-wit, wit-wit klop my hart?) is gekeur vir die Kunste Onbeperk Teksmark vir 2018. ’n Uittreksel daarvan is op 4 September 2018 in die Baxter Teatersentrum onder regie van Mari Borstlap opgevoer met Geon Nel en Elana Afrika wat die teks vertolk het.

Hy is tans betrokke by die Stellenbosch Woordfees, waar hy die media en publisiteit hanteer, en hy is ook sedert 2016 die koördineerder van die Woordfees se filmfees.

Vanaf 2015 werk hy as vryskutbasis by kykNET as taalkonsultant, vertaler en kopieskrywer vir hulle bemarkingspan. Hy was die inhoudsregisseur van Die Afrikaners,  ’n dokumentêre reeks van 17 episodes wat gebaseer is op Herman Giliomee se gelyknamige boek. Die reeks is in 2018 op kykNET uitgesaai met Kabous Meiring as die regisseur.

Hy is ook betrokke by plaaslike en nasionale radiostasies, soos Bush Radio, RSG en Smile 90.4FM. In 2016 bied hy saam met Kerneels Breytenbach ’n musiekreeks van 13 episodes op RSG aan –Van Oppikoppi tot anderkant Elvis verby – en in Desember 2014 is hy gereeld op gasFLITS – kykNET se weeklikse laataand kuns-en-kultuur-geselsprogram. Van 2012 tot 2014 was Danie een van die aanbieders van Silwerskerm-insetsels toe hy saam met Suzette Kotzé-Myburgh op kykNET se ontbyt-TV-program, Dagbreek, films geresenseer het.

In 2013 en 2014 neem Danie as kommentator-paneellid deel aan 10 uit 10 op kykNET saam met onder andere Rian van Heerden, Haidee Muller, Margit Meyer-Rödenbeck en Gavin Prins. Hy was gasaanbieder van die Fiësta-uitsending op kykNET oor die Darling Voorkamerfest 2014 en ook aanbieder by die tweetalige Kaapse radiostasie Smile 90.4FM van 1 Januarie 2013 tot 31 Oktober 2014. In dieselfde tyd was hy ook die hoof van digitale inhoud en strateeg van dieselfde radiostasie.

Danie se daaglikse Number ones at one van 13:00 tot 14:00, wat hy aanvanklik alleen maar later saam met Benito Vergotine aangebied het, was een van Kaapstad se gewildste radio-ure. Op Smile 90.4 FM bied hy ook Film Friday / Fliekvrydag aan saam met Mehboob Bawa (weeklikse fliekbesprekings) en Theatre Thursdays / Drama-Donderdag, waarin hy met die sterre en vervaardigers van verhoog- en musiekproduksies onderhoude voer. Danie voer ook onderhoude met verskeie besoekende internasionale musikante, onder andere Kris Kristofferson, Suzanne Vega, Mike Rutherford (Mike & The Mechanics) en Bonnie Tyler.

Hy is vanaf Mei 2011 ’n gereelde gasaanbieder by The Wrong Rock Show op Bush Radio saam met Botha Kruger en Greg Donnelly en sy liefde vir musiek kom verder na vore in die reeks insetsels oor punk rock en politiek wat hy saam met Martelize Brink op RSG (Maart – September 2010) aangebied het.

Sy debuutbundel, In die buitenste ruimte, word in 2006 gepubliseer en word bekroon met die Eugène Marais-prys in 2007 en in dieselfde jaar met die Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste skeppende debuutwerk. Hy palm ook die Ingrid Jonker-prys vir 2007 met hierdie bundel.

Die titel van die bundel verwys na waar die gedigte afspeel. “Toe ek Duitsland toe is, was ek vasbeslote om ’n nuwe identiteit vir myself te skep. Maar op ’n emosionele vlak het Duitsland vir meer na die buitenste ruimte gevoel. Vryheid en anonimiteit laat ’n mens dikwels voel asof jy gewigloos is en vryval. Die verhouding wat ek wou laat werk het, het soos ’n huwelik in die buitenste ruimte gevoel. Namate ek en my eks-vrou van mekaar vervreem geraak het, het ook die verhouding ’n eensame, geïsoleerde ruimte geword,” aan Die Burger (4 Mei 2007).

Danie vertel aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 14 Desember 2007) dat die gedigte in In die buitenste ruimte ’n weerspieëling is van die agteruitgang van sy huwelik met sy eerste vrou en die pyn wat daarmee gepaardgegaan het. “Die digter Raymond Carver of sy vrou het gesê hy het sy poësie gebruik soos ’n mens ’n helikopter sal gebruik: om moeilike terrein te verken. Vir my is dit baie dieselfde. Ek skryf net oor goed wat ek nie weet hoe ek daaroor voel nie. Al wat ek weet, is dit druk my of pla my op ’n manier en as jy klaar geskryf het, dan het jy nie noodwendig ’n oplossing nie, maar jy het ’n greep daarop. So, my skryfwerk het vir my ’n greep gegee in ’n oorweldigende situasie.”

’n Vriendin, ’n skilder, het vir Danie gesê: “Jy weet, Danie, ek weet nie of wat jy skryf gedigte is nie, maar ek kan dit nie vergeet nie. Daai gedig oor Barcelona, ek weet nie of dit ’n gedig is nie, maar ek kan dit nie vergeet nie.” En Danie se kommentaar: “Ek voel dan is dit reg so. Jy weet as dit iets vir iemand beteken of dit hou hulle aan pla, dan is dit vir my poësie:

Barcelona – 2 en ’n ½ jaar later

Ons sit waarskynlik ’n laaste keer saam in ’n restaurant.
Die plek se naam is La Veronica –
die ene minimalistic chic in die gothic deel van Barcelons, nogal:
pragtige slaaie, ’n bottel rooi wyn en ’n bottel water voor ons,
’n huwelik agter ons
en jou bril is donker en jou top is oorlogrooi.
Die stoele en die tafels is wit oblivion wit.
My hemp is blou, raserige Hawaii-blou.
Party mure is rooi, jou oorlogrooi,
en ander mure is wit wit.

Dis ’n lang gedig. Meedoënloos beskryf dit die stadige dood van sy huwelik:

Uit frustrasie draai jy ’n suikersakkie nek om
sodat wit suiker stadig val
op die raving oranje tafeldoek,
terwyl jy begin huil agter jou donkerbril.

(Die Burger, 14 Desember 2007)

Joan Hambidge skryf in Rapport (6 Mei 2009) dat In die buitenste ruimte ’n genotvolle bydrae is tot wat genoem word die praatgedig en dat wanneer die digter self sy gedigte voordra, is die ervaring nog beter. “’n Mens sou Marais waarskynlik verder ten beste kon tipeer as die digter van die nostalgie en juis vanweë die buite-blik, wat ’n soort dubbel-perspektief tot gevolg het, kyk hy dikwels met ’n vreesloosheid na Afrikaans en haar digkuns. [...] Daar is ’n sterk buiteblik, ’n vermoë om onvergeetlike waarnemings in jukstaposisie te plaas en ’n ongelooflike, hartverskeurende weerloosheid. Ek ken min gedigte waarin die berou oor die afloop van ’n huwelik met soveel skuld en aandadigheid bely word. [...] In die buitenste ruimte is ’n aangrypende debuut wat waarskynlik vir sommige lesers min wisseling in toonaard sal bied en wat miskien, as ’n klein kritiek in die kantlyn vir die digter, die gevaar mag loop om té woordryk en uitgesponne te raak. Die snoeiskêr moet soms ’n bietjie ingelê word.”

Vir Bernard Odendaal (op Versindaba) daag Danie se verse die gevestigde beskouings oor die verskil tussen prosa en digkuns uit: “Hy maak minder staat op byvoorbeeld metaforiek of die klank en ritmelae van taal. ’n Anekdotiese, verhalende element oorheers eerder, met ’n opvallende voorkeur vir aldagtaal in langer, dikwels voortstromende sinne, meestal met redelik konvensionele leestekengebruik. [...] Tog word die normale sinsbou dikwels ietwat ontwrig of andersyds geritmiseer. [...] As resultaat kry ons ’n digkuns wat helder, toeganklik aandoen en waarin soms op ontroerende wyse die storie vertel word, in brokke en stukke, van ’n liefdes- en huweliksverhouding wat in Suid-Afrika begin het en na nege jaar se verblyf in Duitsland op die roste geloop het. Die indruk van direktheid is egter ’n bietjie misleidend. Die bundeltitel, wat op talle wyses dwarsdeur die bundel eggo, is ’n leidraad na die betekenisverwikkeldheid wat onder die stilistiese helderheid skuilgaan. Ontheemdheid is die sentrale toestand wat uigebeeld word.” Odendaal meen ook soos Hambidge dat sekere gedigte “alte uitweidend” raak, maar dat dit ’n werklik belofteryke en welkome debuut is.

Op LitNet beskou Daniel Hugo In die buitenste ruimte as ’n uitsonderlike debuut en wel om twee redes: “In ’n era van kort liriese uitbarstings bestaan die bundel grotendeels uit langerige tot heel lang praatverse. (Die langste gedig beslaan ses bladsye!) Verder is Marais die eerste van ’n jonger geslag ‘expats’ wat hulle buitelandse ervaring poëties verwoord. Al neig afsonderlike gedigte soms tot wydlopigheid en onsamehangendheid, vorm die bundel as geheel ’n stewige eenheid. Dit is ’n gekondenseerde outobiografie van ’n fyngevoelige digter wat weet hoe om sy woorde én trane te slyp.”

In ’n onderhoud met Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007) laat Danie hom as volg uit oor die kwessie van literêre pryse: “Dit sal baie snaaks klink as ek nou sê ek het iets teen sulke pryse. As ek niks gewen het nie, sou ek dalk ’n ander opinie daaroor gehad het. Maar nou smokkel dit so ’n bietjie met my kop. Omdat my gedigte baie toeganklik is en omdat ek juis probeer het om nie ’n soort van akademiese ding te doen nie, het dit my baie verras dat die bundel so goed gedoen het wat betref pryse.

“Nou sit ek half met die dilemma. Ek kyk na die klomp nuwe gedigte en dan lyk dit nie vir my na ’n bekroonde digter se werk nie. Ek probeer nou my eie werk fynkam vir literêre gehalte of vooruitgang, jy weet, en ek is bietjie deurmekaar daaroor. Dis eintlik vreemd, maar ek noem nie myself ‘digter’ nie. Nee, steeds nie. As mense my vra wat ek doen, sê ek ek’s ’n vryskutjoernalis, want ek voel dis so half... Dalk oor jy nooit weet watter gedig jou laaste een is nie. Ek is altyd verras as daar weer een kom, want ek glo vas daaraan dat ’n mens moet skryf as jy iets het om te sê, as daar iets is wat jou pla. Ek glo nie ek kan elke Sondag ’n tydjie opsy sit en dan moet daar iets kom nie.”

Aan Marius Crous (Die Burger, 4 Mei 2007) erken hy dat dit lekker is om bekroon te word, want dit voel of ’n mens nie net al die jare jou tyd gemors het nie. Dis asof ’n besonder ongelukkige stuk van sy verlede nou terugskouend ’n positiewe betekenis gekry het. “Maar dit maak my ook angstig, want ’n mens wil nie graag teleurstel nie. Ek is egter vasbeslote om my gewone ou gang te gaan, want dis die enigste sinvolle ding om te doen. Die Afrikaanse taalgemeenskap is betreklik klein en dit sal dodelik wees om ’n literêre prys kop toe te vat.”

Danie se gunstelingboek in 2006 was The corrections van Jonathan Franzen. Hy beskou dit as die eerste Groot Roman van die 21ste eeu. “Dis ’n kontemporêre Amerikaanse familiesage so tydloos soos Tsjechof en die see. Franzen se tragies-realistiese vertelling oor die Lamberts is ’n karaktergedrewe meesterstuk wat deernisvol worstel met al die ou klassieke temas van liefde, verlange, identiteit, ambisie, ouderdom en dood in ’n siniese tydgewrig.”

Hy vertel aan Ronel Nel (Beeld, 30 November 2006) dat deur Duits te studeer, hy kennis gemaak het met die Duitse digter Rolf Dieter Brinkmann wat ’n kragtige invloed op sy uitkyk van die digkuns gehad het. “Ek glo soos Brinkmann dat ’n mens liefs van abstraksie en retoriek moet wegbly as jy wil dig. Ek stem ook saam met sy siening van ’n geslaagde gedig as ’n goeie snap shot wat ’n direkte, biologies voelbare impak op die leser moet maak. Ek hou daarvan as ’n gedig – al het dit dalk oor maande ontstaan – spontaan en ongekunsteld klink.”

Danie se tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand, word in 2009 deur Tafelberg uitgegee. Tydens die bekendstelling van hierdie bundel het Danie aan Francois Smith gesê hy dig oor die “klippies” in sy “eie skoen”. Oor die melancholie in sy gedigte meen Danie nie dat vrolikheid en geluk ’n doodskoot vir ’n digter is nie. Hy laat hom as volg uit teenoor Daniel Hugo (op LitNet): “Maar dalk het die digter wanneer die lewe genoeg is, nie die digkuns nodig nie. Dit is ook moeiliker om vlietende geluk en ekstase te verwoord. Melancholie, vertwyfeling en teleurstelling is daarenteen sulke ryk, geskakeerde emosies. En selfs al is jy geseënd, oftewel gelukkig, bly melancholie ’n verstaanbare en dikwels gepaste reaksie op die wêreld. ‘Death is the mother of beauty’, het Wallace Stevens geskryf. In dié besef lê die durende melanchole. ’n Alewige vrolikheid is vreemd.”

Daniel Hugo vra ook hoekom is die maan ’n misverstand? “Sodra die mens sy emosies – en vernaam sy ongeneeslike verlange – op die maan projekteer en daarvan ’n metafoor of simbool maak, word dit ’n misverstand omdat alle beeldspraak of simboliek meerduidig is en as ’t ware bestem is vir misinterpretasie. Die maan, die liefde en die digkuns lei gedurig tot growwe mistastings, maar ’n mens leef, bemin en dig desnieteenstaande. Neem byvoorbeeld dié reëls uit Raymond Carver se gedig ‘Marriage’: ‘The moon sails west / as I watch, armed to the teeth, hunting / for my children’. Dis onsin, letterlik gesproke, maar die teleurgestelde romantikus se ore tuit.”

Deborah Steinmair skryf in haar resensie (Die Burger, 27 April 2009) dat sy nie op ’n intellektuele vlak na die gedigte kan kyk nie, en dus ’n meer emosionele bespreking gaan doen: “Op Marais se planeet is selfs die gelukkigste oomblik egter omgeef van ’n sweempie melancholie, skeidingsangs en ’n bewustheid van die dood en die donker. Neurose is ’n asemtog ver. Die digter self is sentraal in die bundel: die geïnspireerde stamelaar, iemand wat soms ‘simpel voel’, wat ‘veg vir volle beheer oor sy eie verleentheid’ (‘Ma’). Hy is onbeskaamd emosioneel, gooi flikkers na sentimentaliteit. [...] Die bundel het ’n samehang; verloor amper nooit sy draad nie, laat ’n lewe ontvou soos ’n roman. Die alledaagse, die veilige opsie – ’n voorstedelike bestaan met vrou en kind – word in Marais se verse ontbloot as vreesaanjaend, ’n bedreigde hawe, ’n weerlose fort. Geluk is vervlietend en verdag. Die masjinerie van digkuns word blootgelê, maar dit neem niks weg van die magiese, misterieuse element daarvan nie. [...] Marais se beelde is meestal vars en verfrissend. [...] Maar Marais skep van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans. Hy is ’n ontsnapkunstenaar, ’n literêre dwelmsmous; sy blik op die werklikheid verslawend soos opium. Hy verwoord die getoorde oomblik oor en oor en laat subversiewe skoonheid soos ’n mes flits.”

Marius Crous (Beeld, 12 Mei 2009) beskou Danie se tweede bundel as ’n verlenging van die temas wat in sy eerste bundel te vinde is: “Ons het weer die kenmerkende praatpoësie. Ons het ’n voortsetting van die temas, soos die liefde, die lewe in Duitsland, die hunkering na die jeug, die rol van  vriende en familie en ons het weer te make met ’n outobiografiese ek-spreker se perspektief. Maar waar ons in die debuutbundel hoofsaaklik gedigte gehad het oor die beëindiging van ’n liefdesverhouding, het ons in die tweede bundel die viering van ’n nuwe liefde.” Crous sien uit na nog verdere digbundels uit Danie se pen.

HJ Pieterse (Rapport, 6 Mei 2009) skryf dat hoewel “die digte(r), saamgetrokke verse met ’n deurlopende sterk beelding verkies, is hy dikwels meegesleur deur gedigte wat soms epiese afmetings aanneem, dikwels om uit te vind ‘hoe die storie eindig’ en deels omdat daar genoegsame interne binding, spanning en slim, hegtende beelde is wat die belangstelling lewendig hou. Marais bewys hom weer sonder twyfel as ’n vernuftige digter met ’n eiesinnige blik op dinge en daarom vind ek dit jammer dat die leisels nie stywer oor die vormgewing getrek is nie. As die bundel met so 20% gesny was, sou dit myns insiens sterker gestaan het as wat dit tans staan. Al is die maan ’n misverstand is dus ’n bundel wat beslis die moeite werd is om te lees, wat sy juwele prysgee met ’n tweede, derde en vierde lees, maar wat hierdie leser laat hoop op ’n sterker sturende hand in die toekoms.”

Die verhalende gedigte wat aan prosa herinner, verhef dikwels ’n skets uit die alledaagse lewe tot poësie. Dit verhef ook alledaagse spreektaal tot poësie. Danie sê aan Francois Smith tydens die bekendstelling van Al is die maan ’n misverstand: “Ek weet ’n gedig werk as ’n gewone reël wat binne ’n ander konteks nie poëties is nie, in my vers poëties word. [...] Ek het nooit omgegee of wat ek skryf poësie is nie, maar ek het gevoel dat prosa fiksie moet wees en ek wou nie namens enigeen anders praat nie.”

Danie wil ook nog prosa skryf, vertel hy aan Francois Smith, en dat hy graag saam met vriende sou wou skryf oor Die Warm Trane, “’n alternatiewe Afrikaanse country band”. Hy wil ook ’n briefroman skryf waarin een karakter gedigte vir ’n ander stuur. “Maar almal waarsku dat jy nie oor jou toekomsplanne by boekbekendstellings moet praat nie, want dan gebeur dit nooit. So nou sal dit seker nie gebeur nie”, by die bekendstelling van Al is die maan ’n misverstand.

Van Danie se gedigte is opgeneem in die nuwe “geblikte” uitgawe van Groot Verseboek wat in 2008 verskyn het. In sy reaksie op hierdie opname het Danie op LitNet gesê hy is gewoon bitter bly en dankbaar. “As jy wil skryf, moet jy in die reël bereid wees om jare lank ’n toegewyde skadubokser te wees sonder om ooit te weet of jy iets of iemand werklik getref het; of dit wat jy doen vir enigiemand van duursame waarde sal wees; of jou gegriffel hoegenaamd gepubliseer gaan word, eendag. Jy vertroetel ’n privaat obsessie waaroor jy nagte om wil praat, maar vir iemand wat nie jou belanngstelling deel nie, is daar niks verveliger nie. Jy sit dus gereeld met ’n veraf uitdrukking in druk tafelgesprekke omdat jy nie jou vriende en familie gedurig met jou knaende, allesverterende stokperdjie wil lastig val nie. Daar is baie redes om kanoniseringsprosesse met agterdog te bejeën en daar sal sekerlik ook stemme wees wat nie met al die keuses in die nuwe Groot verseboek gaan saamstem nie, maar vir my om gelatenheid te veins oor die opname in ’n toonaangewende bloemlesing sou verregaande wees.”

Toe Daniel Hugo op LitNet aan Danie vra waaroor ’n “expat” skryf as hy terugkom in sy vaderland, is sy reaksie: “Dié land maak jou skoon duiselig van alles wat gedurig om jou gebeur – temas is daar meer as genoeg, maar die Suid-Afrikaanse werklikheid is so oorweldigend dat dit eintlik baie moeilik is om daaroor te skryf. Ek glo ook nie dat ’n mens ernstig behoort te gaan sit om jou netjies rasioneel af te vra ‘Watter belangrike tema pak ek volgende?’ nie. Daar is beslis wel skrywers wat so werk, maar ek glo nie aan so ’n serebrale benadering nie. Raymond Carver het gesê hy dink die woord obsessie is meer akkuraat as die woord tema.”

Tydens die Poetry International Festival in Rotterdam in 2007 sê Danie aan Robert Dorsman: “For white South Africans, however, the burning house of their fathers is contaminated with a past a progressive person is not supposed to feel nostalgic about. When you are confronted with the records of the Truth and Reconciliation Commission outside the white community in which you grew up, it seems inconceivable or rather perverse, that your personal experiences of beauty and innocence could take place in such a place and time. It feels wrong to want to yearn back to something like it, especially so when you consider the shameless idealisation of the ‘good old days’ by many a white compatriot. From a politically conscious angle every picnic in those days, every romance and every cherished memory appears a product of reckless white apathy.”

Wat inspireer Danie om te dig? “Oorweldigende emosie en die gevoelens van magteloosheid wat dikwels daarmee gepaardgaan, gee my altyd weer aanleiding om te skryf. Tess Gallagher het gesê dat die kortverhaalskrywer en digter Raymond Carver sy poësie soos ’n helikopter gebruik om emosioneel onbegaanbare terrein te verken. Poësie vervul vir my ’n soortgelyke funksie. ’n Mens ontdek dikwels eers deur die skryf van ’n gedig hoe jy voel, oftewel hoe kompleks ’n stel emosies is. Wanneer ’n mens oor ’n tema of idee skryf, neig die gedig maklik tot hol retoriek. My ander inspirasie is die werk van digters wat ek bewonder. Ek het nog altyd geskryf as ’n leser. Sodra ek ’n goeie gedig gelees het, is ek ook weer lus om te skryf.”  

In 2013 is Danie as Media24 Koerante se naaswenner in die Leefstyl-joernalis van die Jaar-kategorie aangewys. Hy het die prys ontvang vir dié artikels, wat almal die afgelope jaar in By verskyn het: “Steedshierpolisiekar – 10 jaar later” (23 Februarie 2013);  “Die Rolling Stones: 50 jaar sonder satisfaksie” (21 Julie 2012); “Middagete met Jack Parow” (12 Mei 2012); Spookasem-rubrieke: “Wanneer Lollos en ‘London Calling’ ontmoet”, asook “Ek is jou vader”.

In 2015 word Cordis-Trust se Orde van die Beiteltjie aan hom toegeken vir sy deurlopende ywer in die bevordering van gebiede van die Afrikaanse woordkuns.

Danie se derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is in 2014 gepubliseer. Emosies wat hy in hierdie bundel aanroer, is onder andere die trauma van ’n egskeiding, die ander dinge van ’n enkelpa en dan ook die hoop wat ’n nuwe liefde beteken.

Bibi Slippers skryf in Die Burger van 5 Julie 2014 dat hierdie derde bundel se titel reeds ’n terugkeer na die aarde simboliseer. Waarmee Danie heeltemal eens is: “Ja, ek dink Major Tom het definitief met ’n harde slag aarde toe gekom.” Hierdie sinspeel hy op David Bowie se “Space oddity”. “Dit is maar wat dit is: Met ’n kind raak ’n mens se beweegruimte minder. Jy is verstrengel in ’n klein oorlewingstryd. Daar is nie tyd om in die buitenste ruimte rond te dryf nie. The heat is on. Daar is net druk. Ek voel in ’n groot mate het hierdie gedigte ook maar net in ’n absolute drukkoker ontstaan. Ek wou eintlik baie graag ’n roman skryf oor goed wat ek nie eerstehands beleef het  nie. Soort van ’n ervaring wat jy graag sou wou gehad het, deur fiksie verken.

“Maar toe het my lewe net ontspoor. Ek moes dit maar los. Dis eintlik ’n geval van die volle sirkel voltooi, want net soos ek begin skryf het, het ek hierdie keer weer uit ’n sekere nood geskryf.

“Aanvanklik het ek dit as ’n soort nederlaag gesien, want ek het gedink ek gaan nou ’n roman skryf – I’m gonna take this to the next level – en hier skryf ek nou weer in selfverdediging gediggies. Maar wat vir my wonderlik is daarvan, is dat ek dink wanneer jy so by 40 kom, sukkel jy regtig om jou geloof te behou in ’n klomp romantiese ideale wat jou in jou twintigs en dertigs aan die gang gehou het.”

Danie vertel aan Bibi Slippers dat daar toe iets baie interessants gebeur het: “Die feit dat ek toe tog uit  vertwfeling begin skryf het, en dit help terwyl niks anders help nie, het my geloof in die skryf van poësie bevestig het. Ek weet nie wat die maatskaplike belang is nie, maar dis iets wat vir ’n mens op ’n persoonlike vlak lewensnoodsaaklik wees.”

Solank verlange die sweep swaai bestaan uit verskillende afdelings en dit is die eerste keer wat dit gebeur. Vier van die afdelings beeld ’n ander adres uit waar Danie die vorige vyf jaar gewoon het. Nathan Tarentaal se bundel, Chokers en survivors, het nogal ’n invloed gehad op Danie se nuwe bundel. Nadat Danie die bundel gelees het waarin Trantraal dit het oor werkersklasgoed, het Danie besef dat hy met amper dieselfde goed sukkel, naamlik hierdie riskante middelklasbestaan, of soos Danie dit noem, “die promosie-relegasie-wedstryd”

“Die adresse word ’n manier om te sê ‘hier is dit nou: Middelklas-man worstel onbeskaamd met middelklasprobleme’. Maar ek het ook besef daar is ’n groot verskil tussen woon in Woodstock, woon in Kylemore net buite Stellenbosch, of woon in die onderdorp van Stellenbosch. Elkeen van daardie plekke beïnvloed die naggeluide wat jy hoor, jou vrese, jou drome. Op party plekke is dit maklike om ’n valse gevoel van veiligheid te hê. Dit laat ’n mens wonder: As my perspektief so geweldig verander kan word deur die klein skuifies wat ek gemaak het, hoe onmoontlik is dit om die perspektief van soveel Suid-Afrikaners te verstaan wat in plekke woon wat jy eintlik net van buite sien, wat eintlik vir jou onvoorstelbaar is.” (Die Burger, 5 Julie 2014)

Terwyl Bibi Slippers met Danie gesels het, het Levinia, die kat, en Danie se dogtertjie, Lea, gereeld kom gesig wys. Toe hy vir Lea vertel het dat Pappa ’n nuwe boek het, was haar reaksie: “Wow, lucky jy!” en sy is terug na haar indrukwekkende versameling speelgoeddrake.

Danie vertel aan Maggie Marx (Rapport, 6 Julie 2014) dat hy die bundel om twee redes in afdelings verdeel het. “In ’n stadium het ek gedink ek wou as ‘NP van Lykskou’ ’n klomp gedigte skryf wat meer van ’n pop-inslag het, meer senuagtig is.

“Ek  wou ook vreeslik graag oor gruwelflieks skryf. Sien,” aan Marx, “gruwelflieks maak my baie bang en dis altyd vir my interessant hoe die monster ’n ekspressionistiese gestalte is van menslik gemoedstoestande of afwykings. En ook hoe die gruwelgenre om mense se grootste vrese  draai. Dit het toe die Frankenstein-verse-afdeling geword.”

In ’n onderhoud met Gisela Ullyatt op Versindaba wou sy iets meer weet van die ontstaan van die titels van Danie se bundels en of die keuse van ’n bundeltitel spontaan gebeur. Danie meen dat dit beslis “spontaan, organies en deels onbewus” ontstaan. Al drie die titels van sy bundels kom uit ’n versreël of frase uit ’n gedig uit die spesifieke bundel. En hy het gewoonlik al met die samestelling van die bundel begin voordat daar besluit is op ’n titel.

Hy verduidelik verder: “Ek hou baie van die moontlikhede wat bundel- sowel as verstitels bied om met gedigte of ’n hele versameling in gesprek te tree. Ek soek altyd hard na ’n titel wat nie inperk nie, maar tog omvou en kontekstualiseer en ook op sy eie sou kon staan; ’n titel wat jou weer laat wonder oor die hele gedoente wat dit voorgee om te benoem.

“My tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand, wou ek lank Dwaalkoeëls noem en vir die jongste een was Ek’s ’n dronk woord en Die hart se rooi gemors oorwegings. Hierdie moontlikhede het ek uiteindelik verwerp omdat dit myns insiens een aspek/tema van die betrokke bundel oorbeklemtoon het.”

Danie baklei in sy gedigte met die “voorstedelike swerftog wat eindig waar dit begin het”. Oor hierdie stoeiery verduidelik hy aan Maggie Marx dat as jy middelklas is, jy jou hele lewe lank “in ’n promosie-relegasie-wedstryd speel met die wete dat jy nooit regtig iets meer as middelklas sal kan wees nie. Jy leef met hierdie besef dat die geskiedenis nooit aan jou kant gaan wees of jou gaan jammer kry nie. En dis daai ding wat vir my interessant is in die Afrikaanse digtersgemeenskap – dat mense hal jaloers is op Nathan en Ronelda (Kamfer) oor hulle skryf uit ’n plak van geregverdigde woede wat ons middeklas-wittes nie toekom nie.”

Maggie Marx wou weet of hy dink sy middelklasbestaan hom beskerm, waarop Danie antwoord: “Kyk, ons moet die keiser gee wat hom toekom en alles het ’n sekere prys. Ek wil glad nie enigiets wat Nathan deurgemaak het, verromantiseer nie. Ek stem saam met Bukowski: ‘Nobody suffers like the poor’. Maar ons weet dit in ons middelklasbestaan en tog vind ons ons lewe soms ondraaglik. En wat dit amper meer ondraaglik maak, is die besef dat ons pyn eintlik ’n vorm van bevoorregting is. Dat dit altyd erger kon wees. Dit is dus ’n absurde posisie om in te wees, maar om nie te verklaar vanuit watter posisie jy skryf nie, maak nie vir my sin nie.

“Ronelda en Nathan stel vrae wat ek dink die Afrikaanse literêre establishment moet ernstig neem as hy wil relevant bly. Nathan se werk is ’n herinnering dat die digkuns ook oor klas en kleur in gesprek kan en behoort te tree.”

Maar Danie voel dat hy nie as ’n spokesperson van enige spesifieke groep of klas persone kan optree nie, want hy skryf veral om sy eie gevoel van magteloosheid te probeer verstaan en vrede daarmee te maak. “Wanneer ek by die radio werk of ek is ’n pa of ek’s by ’n skoolvergadering of wat ook al, voel ek verplig om ’n sekere standpunt te verteenwoordig. Maar in die poësie is daar niks wat my dwing om enige standpunt in te neem nie.”

Solank verlange die sweep swaai  se omslag is deur Anton Kannemeyer gedoen. Danie meen dat mens Anton nie altyd reg verstaan nie. “Hy word beskou as ’n ikonoklas, maar aan die ander kant is hy ’n moralis. Al sy werk gaan oor, en veg teen, magsvergrype. In ’n tyd wat mense van kuns ’n kommoditeit maak, pak hy kuns met integriteit aan. Ek het het Anton gevra om die omslag te ontwerp, omdat daar ’n ander kant aan hom is wat baie melancholies is. Hy het twee jaar gelede ’n uitstalling oor landskappe gehou, waarin ek ’n verlange en melancholie gesien het. Hy’t gesê hy wil iets anders met die omslag doen. Nie die tipiese Bitterkomix-, Kleinboer-aanslag nie. En toe was ek verskriklik bly daaroor. En verras.” (Rapport, 6 Julie 2014)

Vir Daniel Hugo (Rapport, 6 Julie 2014) kan Solank verlange die sweep swaai gelees word as ’n herskrywing van sy eerste bundel, aangesien sy tweede huwelik ook misluk het, maar nou is daar ’n dogter wat deels by hom en deels by haar ma bly. Hy pendel tussen sy huis op Stellenbosch en die een in Kaapstad en dit is hierdie adresse wat die titels van die afdelings in die bundel is.

Hugo gaan voort: “Net soos in sy vorige bundels sleur Marais die leser mee met sy onderhoudende geselstrant wat opgekikker word met onverwagse beeldspraak. En dit is juis dié beeldende vermoë wat die gedigte moet help red van die gevaar om blote prosa te word. (...) Uiteindelik kan ’n mens Danie Marais se jongste bundel lees as verhandeling oor die liefde. (...) Danie Marais bly ’n digter wat boei en verras.”

Oor die musikale verwysings in sy poësie verduidelik Danie aan Gisela Ullyatt op Versindaba dat dit “nes die intertekste, altyd my manier is om in gesprek te tree met woorde en gedagtes wat my besig hou. My reël is gewoon om nooit iets aan te haal net ter wille van literêre gewig of garnering nie, maar slegs wanneer dit nodig is vir die leser om ‘die gesprek’ te volg.”

In Danie se gedigte maak sy kat, Levinia, gereeld haar verskyning en Ullyatt wou by Danie die rede hiervoor weet: “Levinia is gelukkig nie fiktief nie en ook nog met ons. Ek weet nie of ek daardie sjarmante, totaal selfgesentreerde, sensuele klein luistert van pels ’n zen-meester sou noem nie, maar ek is verknog aan haar.
Levinia fassineer my. In die gedigte speel sy dikwels die vierbeen-weergawe van daardie ondeurgrondbare, onkenbare Ander wat ’n lewe en ’n ruimte met ons deel. Hoe katte se kop werk, weet ek beslis nie, maar ek vermoed ek en Levinia projekteer ewe veel wedersyds. Ek is waarskynlik die vreemdste kat wat sy ken, en sy is ongetwyfeld die beste jagter in my vriendekring. (Maar daardie stelling sê dalk meer oor my vriendekring as Levinia se jagvermoëns. Sy’s nie ’n vreeslike suksesvolle roofkat nie, maar haar bekruipstappie getuig van styl en dodelike erns.)”

Raymond Carver was een van die vroeëre invloede op Danie se digkuns. Hy vertel aan Ullyatt dat Carver ’n vormende invloed op hom gehad het in die 1990’s.

Hy het ook aan Murray la Vita (Beeld, 12 Desember 2010) gesê: “Ek het vreeslik baie van Gert Vlok Nel gehou en die vroeë Breyten, en ek was byvoorbeeld verlief op Ted Hughes se werk, maar elke keer wanneer ek probeer skryf het soos Hughes, het my stem te gedrae geklink. Dit het so ’n gótiese element bygekry wat vir my te . . . Dit het vir my gevoel of ek myself te belangrik hou. Asof ek ’n ou is wat ’n pruik opsit en in ’n snaakse stem met mense probeer praat.

“En toe lees ek Carver. En sy poësie is vir my by uitstek hierdie kort filmpies, en ek kom ’n manier agter wat poësie ook kan wees. Daai hele skool van grinterige Amerikaanse realisme is iets waaraan ek baie geheg is. Dit is om realisme te gebruik met die wete dat dit ’n illusie is. Maar hulle skep daai illusie so goed dat dit voel soos die regte lewe. Dis so half éérlike, tuisgemaakte kos.”

“Ek dink partykeer poësie is ’n bietjie soos adverteer in die hoekie vir eensames, vertel hy aan La Vita. “Jy soek eintlik kontak met mense wat dieselfde voel as jy, met wie jy iets deel. En indien mense nie daarvan hou nie dan is dit maar gewoon soos pos wat by die verkeerde adres afgelewer is. Of iemand wat daai hoekie vir eensames lees en dink: ‘Wie’s hierdie ou? Dis nou die laaste ou wat ek sal bel.’ ”

En Danie kan homself nooit iets anders as ’n digter sien nie (Beeld, 12 Desember 2010). “En ek is ook so half bang om my een te noem, want ek is so half bygelowig dat die gedigte gaan opdroog. Hierso in 1995, ’96 rond was die eerste keer dat ek érnstig probeer het om te skryf. Ek het in Duitsland geland. My verhouding was nie soos ek gedink het dit sou wees nie. Om ’n grootmens te word was vir my ’n moerse teleurstelling. Ek het verlore gevoel. Ek het baie goed geweet wat ek nié wil doen nie, maar ek het glad nie geweet wat ek wíl doen nie.

“En nadat ek hierdie soort van noodlanding in Duitsland gemaak het, het ek begin om baie poësie te lees. Ek het verskriklik baie van Philip Larkin gehou en toe Anne Sexton. Ek het so die een ná die ander begin deurwerk. Ek wou probeer om te doen wat hulle aan my doen. Jy besef daar is ’n ongelooflike mág in poësie net op ’n intiem-persoonlike vlak.

“Om ’n mens te wees is ’n intens mágtelose ervaring, maar wanneer jy ’n gedig skryf, is dit die een ruimte waar jy kan speel met die beligting, die choreografie, die snitte ... jy kan bepaal hoe die lig val. Wanneer jy ontvanklik is vir mooi woorde of poësie dan ervaar jy ’n soort van ’n verruiming van jou bewussyn. Dit maak jou léwe meer waardevol.

“Jy het ’n gewaarwording, ’n diép ervaring wat jy andersins nie sou gehad het nie, word gefasiliteer. Dis soos dwelms vat ... jy raak op ’n manier verslaaf aan daai ervaring waar jy vergeet van die alledaagse en jou ónbenulligheid en jou sterflikheid. So, dis ’n transendentale oomblik. En om dit vir mense . . . Daar’s ’n liedjie van Goldfrapp waar sy sê: ‘The world stops for snow.’

“As jy dít kan regkry, daai oomblik waar iemand vir ’n oomblik werklik net stilstaan, dan is dit fantasties. Ek dink dis William Burroughs wat iewers sê as woorde op ’n sekere manier gebruik word, kan dit stilte veroorsaak. En ek dink dis min of meer die grootste ding wat jy kan regkry, om hierdie rumoer vir ’n oomblik te laat stil word in een helder oomblik.”

In 2015 word Pruimtwak & skaduboksers gepubliseer met die newetitel rubrieke, heildronke en nagedagtes. Dit was op die kortlys vir SALA se Nadine Gordimer-kortverhaaltoekenning in 2016.

Danie vertel aan Mizan van der Merwe dat die goed op die bladsye van Pruimtwak dít is waaroor hy ”met speelse erns en entoesiasme” wonder. “Die outobiografiese elemente in hierdie bundel is eenvoudig vir my belangrik omdat dit eerliker is, omdat jy soortvan sê waar jy in jou lewe was toe hierdie goed op jou ’n indruk gemaak het. Dit is die rede hoekom ek die aanhaling 'perspektief is nie ’n speelding nie' van Fokofpolisiekar voor in die boek gesit het.

“Die boek gaan eintlik maar oor die goed wat my van kleins af besig gehou het. Ek was nog altyd geïnteresseer met die underground en met randfigure en die kontra-kultuur van protes.”

Hy verduidelik aan Mizan dat die “skaduboksers”-hoofstuk in die boek gaan oor randfigure wat hy oor meer as ’n jaar vir By geskryf het. ”Mense wat Suid-Afrikaans is of tyd in Suid-Afrika deurgebring het, wat iets sê oor wie van ons deel is. Die mense wat ons tot randfigure verklaar sê iets oor die res van ons as mense.”

Daar is ook die “heildronk”-hoofstuk. Hierin skryf hy oor talle herdenkings en persone soos Queen, die Simpsons en Fokofpolisiekar, asook oor sy ou skooljuffrou en sy ma. “Ek het dit geskryf om te probeer bepaal hoekom sekere goed só ’n groot impak het en wat die blywende invloed van dinge is.

“My digbundels is ’n verwerking van ervaring, waar ’n boek soos daai bestaan uit ander stories en gedagtes en temas. Ek is baie bly dat hulle die boek uitgegee het. Ek wou nog altyd só ’n soort boek geskryf het. Soos alle skrywers hoop ek dat die boek sal verkoop, bloot vir die feit dat dit ’n bewys is dat daar ’n behoefte is aan dié tipe joernalistiek.”

Die uitgewers se inligtingstuk oor Pruimtwak lui as volg: “Om sin te maak van die hele virtuele warboel in die 21ste eeu moet ’n mens hoog en laag soek. En dis presies wat die bekroonde digter en joernalis Danie Marais doen in Pruimtwak en skaduboksers – ’n onderhoudende versameling van rubrieke, essays, heildronke en nabetragtings wat met speelse erns en entoesiasme die verbande verken tussen boeke, die tydsgees, popkultuur en die verdwaasde gewone ou wat naweke in sy braaivleisvuur tuur. In hierdie stukke wonder Marais – soms sober, soms skertsend – wat geword het van rock 'n' roll, sy generasie X en randfigure soos Peter Blum. Alles en almal van Darth Vader, die Simpsons, Katy Perry, Bruce Springsteen, Fokofpolisiekar, die boeremusieklegende David de Lange en The Big Lebowski tot die agterryers van die Anglo-Boereoorlog praat saam in ’n bundel wat jou laat glimlag én dink.”

Herman Lategan is die resensent van Pruimtwak in Volksblad van 9 Maart 2015 en hy is baie beïndruk met Danie en sy vermoëns as skrywer: “Danie Marais is nie ’n man wat met die spreekwoordelike kielie in sy hart rondloop nie. Om met daai einste kielie so rond te loop, beteken jy is geamuseer, maar lag nie hardop nie. Marais is nie so nie. Hy steek nie sy blymoedigheid weg nie, hy sit dit nie onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

“As jy hom sien, is sy glimlag soos ’n wegholveldbrand. Hy is so opgeruimd, ek het al oorweeg om klasse by hom te loop. (...) Maar moenie geflous word nie. Moet net nie dink Marais is ’n giggelende skuimkoekie nie. Agter daardie persona skuil iemand wat al ’n paar keer pynlik deur die lewe met die plathand omgeklap is, maar elke keer dapper opstaan.

“Agter daardie voorkop skuil biblioteke vol toomlose kennis, verwysingsvelde en horisonne wat min perke ken. Woorde doen vurige kwêlas, rumbas en tarantellas in daardie brein van hom. Hy is bekend as bekroonde digter, (...) en al het jy nog nie sy bundels gelees nie, laat die poëtiese toonkleur van die woorde jou binnekamers se gordyne wapper.

“Met Pruimtwak & skaduboksers is daar ook die belofte van iets wat roer en bakkeoerie (bolmakiesie slaan): in die kooi, agter die deur, onder die bossie loer ’n mossie. (...) Hier sit ons nou met die dik melkvet van sy rubrieke, essays, heildronke en nagedagtes, met ’n titel wat volmaak inwerk op die inhoud, kompleet met stoepstories, soene en snotklappe. (...)

“Daar is baie hoogtepunte, maar wat uitstaan, is sy eersteklas magiese realisme in die onderhoud wat met die digter Peter Blum in die Kimberley-hotel in Kaapstad gevoer is. Blum is natuurlik reeds dood, maar die hele gesprek loop af asof die twee met ’n glasie lawaaiwater tog te lekker sit en klets oor die letterkunde.”

Vir Lategan is daar ook die stukke oor Wopko Jensma, ’n digterkunstenaar en talentvolle man wat reeds oorlede is; oor Neil Goedhals, wat selfmoord gepleeg het en ’n pionier was van plaaslike konseptuele kuns en die meesterbrein-kitaarspeler van die punk-noise-groep KOOS; en oor Freddie Mercury en Queen se 40ste verjaardag.

Lategan sluit af: “Kry die boek, anders gaan jy die paartie van die jaar misloop!”

Ook Rooi Rose (Junie 2015) is baie opgewonde oor Pruimtwak: “Die boek is nou al ’n rukkie in die omgang, maar dis met vrees en bewing dat ek daaraan dink dat van ons lesers nog nie daarvan weet nie. Danie Marais se skrywes in doodeenvoudig briljant: snaaks, skerp, indringend, laf, diep, roerend en soms maak dit jou kriewelrig. Goed so. Dis ’n versameling van sy beste rubrieke en stukke, en kan stuk-stuk gelees word. Net vir daardie slag as jy weer ’n stuk inspirasie loop soek. Bravo!”

Een ding waaraan hy wel vasgeklou het nadat hy alles verwerp het, was ’n baie romantiese idee oor die liefde, vertel hy aan Mizan van der Merwe. “Ek het gedink as ek nou die liefde het dan moet ek dit net volg, dan sal die liefde nou vir my sorg. Ek dink as ek nie met daai oordrewe romantiese idee oor die liefde en verhoudings die wêreld en oor die oseaan ingestorm het nie, sou ek myself waarskynlik baie pyn en lyding gespaar het.”

Danie het aan Van der Merwe gesê dat hy nie werklik die regte persoon is om te vra vir raad oor die liefde nie en hy verduidelik dat hy dink dat ons almal verlief is op die idee van valse liefde soos die soort wat romantiese films vir ons gee. “Daar is ’n verskriklike onrealistiese idee oor wat die liefde moet doen. Ons het hierdie idee van as hierdie persoon nou lief is vir jou, dan moet hulle jou liefhê vir wie jy is en dit beteken jy gaan die heeltyd jou slegste kant en al jou geite by hierdie persoon uithaal, en hierdie rommelhoop wat jy skep, is dan veronderstel om hierdie happy ever after huis te wees. Ek dink ons verbrysel mekaar met hierdie ongelooflike hoë verwagtinge wat ons stel aan romantiese liefde en die huwelik omdat al die ander instansies eintlik op ’n manier verbrokkel het en ons versaak het,” verduidelik Danie.

Hy gaan voort: “Ons kan nie meer op die staat vertrou nie en baie van ons het ernstige twyfel met die kerk en opvoeding, so nou maak ons hierdie kerk van die huwelik en liefde wat veronderstel is om soortvan alles vir ons uit te sorteer en dit kan nie!

“As daardie droom van ’n huwelik doodgaan, is dit ’n geweldige ding om te verwerk. Ek dink mense verloor hulle geloof in die mensdom en in liefde, maar miskien is verlore sake, die enigste sake.”

Sedert November 2013 is Danie aktief betrokke by die werksaamhede van PEN Afrikaans – aanvanklik as bestuurder van PEN Afrikaans en nadat hy in November 2017 bedank het as bestuurder, as ondervoorsitter –- ’n posisie wat hy met die skryf van hierdie bywerking nog beklee.

Met sy verkiesing tot bestuurder van PEN Afrikaans het Danie die volgende te sê gehad: “Ek is om verskeie redes opgewonde om by die bestuur van PEN Afrikaans betrokke te raak. Hierdie opgewondenheid berus enersyds op al die nuwe moontlikhede wat die digitale wêreld aan ’n taal- en skrywersgemeenskap bied; andersyds op die feit dat daar geruime tyd al by my en vele ander kommer bestaan oor bepaalde leemtes wat in die Afrikaanse skryfwêreld ontstaan het – leemtes wat PEN Afrikaans kan help aanspreek.

“Wat ek in die vooruitsig stel, is ’n webruimte/blog in diens van alle Afrikaanse skrywers en joernaliste wat ’n knooppunt word vir inligting oor en besprekings van skrywers en boeke. Met ander woorde, ’n webruimte waar enige lid van PEN ’n profiel kan hê wat enige belangstellende in sy/haar werk vinnig in al die regte rigtings sal stuur – dit wil sê na plekke op die internet waar resensies, onderhoude en inligting, in geskrewe vorm of as potgooie of videogrepe beskikbaar is.

“PEN Afrikaans wil nie net die vakuum vul wat deur die Afrikaanse Skrywersgilde gelaat is nie, maar ook stelselmatig projekte van stapel stuur wat daartoe bydra om taalruimtes wat bedreig word te verruim, te versterk of aan te vul. Ek is dus sowel begaan oor die argiveringswerk van NALN as die krimpende moontlikhede vir die beoefening van Afrikaanse kuns-, kultuur- en boekjoernalistiek van gehalte.

“Die plan is egter nie om funksies te probeer verrig wat reeds deur organisasies en/of maatskappye soos die ATKV, Media24, Solidariteit, die Afrikaanse Sakekamer, AfriForum ens behartig word nie. PEN Afrikaans staan in die diens van almal wat skryf in Afrikaans. Ons wil egter graag saamwerk met enige groep of instansie wat ’n belang in die voortbestaan, bevordering en gebruik van Afrikaans as geskrewe taal het, mits daardie groep of instansie ook inklusiwiteit en nierassigheid as beginsels ondersteun.

“Ek sien dit dus as een van die primêre doelwitte van die bestuur om te werk daaraan dat wit, bruin en swart Afrikaanse skrywers ewe tuis voel by PEN Afrikaans.

“Om Afrikaans te bevorder, soos ons dit wil doen, is nie ’n vasklou aan enige lewensbeskouing of verlede nie. Dit is ’n strewe wat berus op die oortuiging dat enige taal soos enige mens iets het om te sê en dat daar ruimtes nodig is waarbinne gepraat, geskryf en daarmee ook geluister en gelees kan word.

“Ek vind dit daarom verblydend dat PEN Afrikaans geregistreer is as NRO wat nie op winsbejag ingestel is nie. Globalisering het ons immers gewys dat die mark geen vriend van verskeidenheid is nie – in elke winkelsentrum van die Kaap tot by Beitbrug oorheers dieselfde kettings en produkte.

“By PEN Afrikaans hoef ons egter nie te vra of iets gewild gaan wees of geld gaan maak nie. Ons moet net wonder of ’n bepaalde projek of besluit tot die voordeel van Afrikaanse skrywers en lesers strek.” (LitNet) 

Tussen 13 en 16 Oktober 2015 het Danie saam met Bettina Wyngaard die 81ste PEN International-kongres in Quebec, Kanada as afgevaardigdes van PEN Afrikaans bygewoon.

In 2017 is Danie as kykNET-Rapport se boekresensent van die jaar vir fiksie aangewys. Dit is aan hom toegeken veral op grond van sy resensie van Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bitterkomix 17 in die Media24-dagblaaie op 4 Julie 2016.

In haar commendatio vir hierdie toekenning skryf Bibi Slippers op LitNet: ”Danie Marais se diepgaande kennis oor die onderwerp waaroor hy skryf verhef sy resensie van Bitterkomix 17 tot ’n hoër vlak. Nuwe lesers – diegene wat nie bekend is met Bitterkomix en die werk wat deur die jare in dié comic-tydskrif gepubliseer is nie – word gou op die hoogte gebring met ’n deeglike, bondige terugblik wat inlig en kontekstualiseer sonder om vervelig te raak.

“Hier het ons nie net gewoon ’n resensie van ’n teks nie: die resensent bou ’n boeiende storie rondom die fenomeen van (wit) verset, en bied Bitterkomix as gevallestudie aan. Buiten die beoordeling van Bitterkomix word dit ook ’n beskrywing van onlangse politieke en artistieke geskiedenis wat vir die leser waarde toevoeg. Dis ook nie ’n geval van ’n 'anonieme' resensent wat 'objektiwiteit' probeer voorgee nie: die resensie toon ’n eie visie en mening oor méér as net die boek wat ter sprake is. Daar is ’n opstapeling van feite oor die inhoud en samestelling van hierdie spesifieke uitgawe van die comic-tydskrif wat telkens ook lei na ander aanvullende inligting en verdere konteks.

“Daar is werklike diepgang in Marais se beskouing van Bitterkomix en ’n wye verwysingsveld word by sy bespreking betrek – van die filosoof Slavoj Žižek tot die Poolse digter en Nobelpryswenner Wisława Szymborska en die akademikus Christi van der Westhuizen – maar die resensie verval nooit in ’n vaal Akademiaans nie. Die liefde, respek en geesdrif waarmee hy oor sy onderwerp skryf sleur die leser mee, sodat selfs diegene wat nie gewoonlik comics lees nie uiteindelik met nuwe oë na die hele genre móét kyk.

“Marais se taalgebruik is beeldryk en lewendig, en die leser van die resensie kan hom- of haarself aan sy aanwending van subtiele humor verkneukel sonder om ooit te voel dat iets belaglik gemaak word of afgelag word. Die resensie is ’n skitterende voorbeeld van hoe die gesprek rondom boeke kan uitkring en deel word van die breër diskoers rondom politiek, seksualiteit en identiteit – eintlik enige onderwerp of aktuele kwessie – en lesers bedag kan maak op gebeure en ontwikkelinge in die boekwêreld, maar ook in die breër samelewing.”

Danie is ’n baie gewilde keuse as dit kom by die aanstelling van beoordelaarspanele – veral by dié wat literêre pryse moet toeken. Hy het al gedien as paneellid vir die 2018-kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse; sameroeper van die Kanna-paneel vir die ABSA KKNK 2015 en 2016; lid van die ABSA KKNK-kunstekabinet 2015 vir kontemporêre musiek, musiekteater en woordkuns; beoordelaar van die WA Hofmeyr-prys vir die beste literêre werk in Afrikaans in 2015, 2016 en 2017; beoordelaar van die Protea-prys vir poësie 2005 en die ATKV-Woordveertjie vir Poësie 2011, 2012, 2013 en 2014; beoordelaar van die Jan Rabie Rapport-prys vir die beste debuut- of (vroeë) tweede werk in Afrikaans 2013, 2014, 2015, 2016, 2017 en 2019; sameroeper van die Ingrid Jonker-pryskomitee van September 2010 tot Januarie 2017, asook beoordelaar van die Huisgenoot Tempo-toekennings 2008.

Publikasies:

Publikasie

In die buitenste ruimte

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044580 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 2007
  • Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste skeppende debuutwerk 2007
  • Ingrid Jonker-prys 2007

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Al is die maan ’n misverstand

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047612 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

South African Literary Award Poetry Prize 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Solank verlange die sweep swaai

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624068426 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pruimtwak & skaduboksers: rubrieke, heildronke en nagedagtes

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624073277

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale en anekdotes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Danie Marais as samesteller:

Artikels oor Danie Marais beskikbaar op die internet

Artikels deur Danie Marais beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Foto van Danie Marais: Nardus Engelbrecht

Bygewerk: 2019-06-13
Inligting verouderd/onvolledig?
Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za.

The post Danie Marais (1971– ) appeared first on LitNet.

Jaco Fouché (1967–)

$
0
0

Gebore en getoë

Jacobus Phillipus Fouché is op 29 November 1967 in Klerksdorp gebore, die oudste van drie seuns van Koos en Magrietha. Hy begin sy skoolloopbaan in 1974 in Vereeniging en matrikuleer in 1985 aan die Hoërskool Hermanus. Sy pa was in diens van die Departement van Justisie en is gereeld verplaas, met die gevolg dat die gesin in verskillende dorpe gebly het voordat Jaco die huis verlaat het. Hy het grootgeword op Bronkhorstspruit, Vereeniging, Sterkstroom en Hermanus.

Die eerste keer dat Jaco agtergekom het watter geheimsinnige wêrelde die letterkunde vir ’n mens kan oopmaak, was toe hy tydens ’n reënerige naweek in Vereeniging in sy pa se boekrak rondgekrap het en op ’n boek van James Hadley Chase afgekom het. 

“Toe ek my pa vra hoekom ’n man dan aan ’n vrou se borste sal wou vat, steek hy die boek en ’n hele rits ander weg,” vertel Fouché aan Theunis Engelbrecht (Beeld, 12 Junie 1997). “Daarna het ek my vrae versigtiger gekies, en my mentors verder van die huis af gesoek.” 

Jaco probeer reeds van jongs af stories skryf, veral na aanleiding van strokiesprente en televisiereekse en jeugverhale wat hy gelees het. In 1981 lê hy sy eerste verhaal aan ’n tydskrif voor; die poging was egter ongelukkig onsuksesvol. Hierna volg nog verdere onsuksesvolle pogings om van sy verhale, gedigte en artikels gepubliseer te kry, totdat die Hermanus Times in 1989 enkele berigte van hom plaas.

Hy wou nog altyd skryf, sê hy aan Engelbrecht. “Skool was orraait, maar die taalklasse was die beste. Ek kon nie wag om te leer lees en skryf nie. LO was ook okay: ons het baie keer saam met die meisies rounders gespeel.” 

Hy vertel ook aan Heindrich Wyngaard: "Ek was seker so nege toe ek besluit het dis (skryf) wat ek wil doen, want ek is absoluut mal oor boeke en flieks. Dis baie keer só met ’n goeie boek of fliek dat mens voel jy wil dit self geskryf het. En dan begin jy te skryf aan jou eie" (De Kat, Julie 1996).

Hy sê sy skrywery kom van lees en fliek kyk. “Ek was nog altyd lief vir stories en het omtrent alles gelees, maar wetenskapfiksie en jeugverhale oor bendes was my gunstelinge. Trompie ook, maar daar was ’n spannetjie of wat wat gemener was as die Boksombende. Ek onthou ’n boek, Bakkies en sy maats, wat my diep beïndruk het. As ek reg onthou, het André P Brink dit nog geskryf. Maar ek het kleintyd al partykeer gevoel ’n storie wat ek lees, is nie heeltemal ‘reg’ nie. Dan probeer ek die ding oordoen.” 

Nadat Jaco die jeugverhaal Somer geskryf het, vertel hy aan Naomi Meyer op LitNet dat die idee van skoolkinders wat werkies verrig, aan hom inspirasie verskaf het vir die skryf van die boek en dit het hom ook terug laat dink aan sy kinderjare: "Op skool het van my skoolpelle in tuine gewerk, huise geverf en hout gesaag vir sakgeld. Ek self het ook naweke en vakansies gewerk, meestal aflewering en rakke pak by ’n besigheid. En nog altyd wou ek daardie dae herroep en ek wou nie eintlik oor my eie werk skryf nie, want om met ’n kettingsaag te werk, is darem baie aantrekliker vir ’n leser as ’n ou wat produkte rondgestoot en afgelewer het, hoewel ek darem self ’n paar voorvalle beleef het wat besonders was en seker nog iewers neergeskryf kan word.

"Verder het ek ook baie tyd in die biblioteek en die dorp se boekwinkel deurgebring. By die boekwinkel het ’n tannie my boeke op haar rekening laat koop omdat sy afslag gekry het. By die biblioteek kon ’n mens ’n middag laat verbygaan en jy het gemeen dis ’n baie vrugbare besoek wanneer jy met jou drie boeke daar uitloop. Die bibliotekaris was ’n eksentrieke man wat kaalbolyf op straat verskyn het en my een vriend van rare boeke voorsien het wat hy maar kon hou. Daar was puik leesstof, sulke stokou uitgawes wat soms self uitgegee en glad nie goed versorg was nie. Een van daardie boeke is deur ’n De Villiers geskryf en het oor die ruimte gegaan. Dis gebaseer op sy dekade lange amateurwaarnemings vanuit sy agterplaas waar ek een aand was om deur die teleskope te kyk. Op ’n keer het daar ’n nuwe bibliotekaresse by die biblioteek begin werk en al die wonderlike ou boeke uitgewerk sodat daar plek kan wees vir nuwe publikasies. De Villiers se boek is ook weggemaak. Dit was erg, maar seker net nog ’n les oor die tydelikheid van alles."

Oor boeke wat hy as jeugdige gelees het, vertel hy verder aan Meyer: "My gunstelingboeke was werk van Stephen King, Wilbur Smith, James Clavell en Eric van Lustbader. My gunstelingjeugboeke was SE Hinton se verstommende stories. Sy is bekend daarvoor dat sy die Young Adult-genre omtrent op haar eie gevestig het met The Outsiders. Ek het dit twee jaar gelede weer gelees en erg terugverlang skool toe. Ek het ook van die Just William-boeke van Richmal Crompton gehou. Dit gaan oor ’n elfjarige seun, maar ek het dit tot matriek nog gelees en vier jaar gelede weer een van hulle aangeskaf. Dan was daar Huckleberry Finn wat ek die eerste keer in die Afrikaanse vertaling gelees het. Dis vandag omstrede weens die rastema, maar dís nou ’n grootse boek as ek al een gelees het."

Verdere studie en werk

Intussen is Jaco vir twee jaar weermag toe (1986–1987), waarna hy in 1988 ’n pos as assistent by ’n rekenaarkleinhandelaar kry. In 1989 loop hy ’n kursus in vryskutjoernalistiek aan die Kaapse Technikon. In 1990 begin hy met rekenaarverwerking by Sanlam in Bellville en word in 1991 ’n junior programmeerder.

Sy eerste sprong om ernstig te begin skryf, neem hy in 1993 toe hy by Sanlam bedank om oorsee te gaan. In Londen hou hy dagboek van sy ervaringe aldaar en met sy terugkoms tik hy sy dagboekinskrywings oor, en dit was die begin van sy eerste roman, Die ryk van die rawe (1996), wat in 1997 met die Eugène Marais-prys bekroon is. Die roman is ook benoem vir die M-Net-prys in 1997.

Oor sy besluit om in 1993 Londen toe te gaan vertel hy aan Heindrich Wyngaard (De Kat, Julie 1996): "Toe ek soontoe is, het ek groot idees gehad, soos om te kyk of ek daar kan werk, maar dis maar ’n blerrie koue plek daai.

"Ná die trip oorsee het ek een aand gaan sit en my dagboekinskrywings ingetik. (Ek het ’n bleddie skreeulelike handskrif wat ek self nie kan lees nie.) Dit het eintlik gou gegaan, dié skryf aan die boek."

Die boek het Ratkas Goosen as hoofkarakter. Hy is ’n opvlieënde kêrel van Bellville, skryf Wyngaard, "wat Londen toe gaan om homself en die wêreld agter te kom. Daar ondergaan hy sy deurgangsrites onder ’n bisarre reeks straatmense, Londen se stilverlorenes. Dit alles terwyl ’n korrupte polisiehoof op sy spoor is om hom vir moord te 'frame'."

Toe die boek aanvaar is, het hy die aand nie geslaap nie: "Daar was nie tyd nie. Dit was ’n haze van celebration. Maar dit was harde werk, daarom is ek nie skaam om trots te wees nie."

Oor Die ryk van die rawe het Elize Botha geskryf: “In baie opsigte kan ’n mens van hierdie boeiende debuut praat as ’n onversigtige begin, waarin die skrywer sy energie en energie-bronne, sy moontlikhede en vermoëns byna argeloos uitstal. Op heelwat plekke sou 'n mens kon roep om ‘strenger tug’. Maar laat ons nie vergeet nie: Henry James (‘I delight in a deep-breathing economy and an organic form’) het van Victor Hugo en  Tolstoi se romans gepraat as ‘loose baggy monsters’!”

Na sy terugkeer uit Engeland werk hy vir vyf maande as bestuurder in ’n kroeg en die herinneringe aan daardie tyd is deesdae vir hom soos “soos oorlogherinnering vir ’n veteraan”. Van sy ervaringe daar verwerk hy in kortverhale wat saam met ander uitgegee word in Paartie by Jake’s (Queillerie, 1997).

Oor Paartie by Jake's skryf Fanie Olivier dat die leser in hierdie kortverhaalbundel dieselfde stem vind as wat by Ryk van die rawe te bespeur is. Die karakters is ook meestal randfigure wie se lewens onder hulle padgee. En so word hulle dus buitestanders.

Een van Olivier se besware teen Paartie (net soos by Ryk) is dat Fouché nog daarna neig om te veel te wil sê: "By kortverhale word dit hinderliker omdat die vertelling onder die storie uitloop, en woordekonomie juis sou aansluit by ’n lewenshouding wat hierdie verhale yk.

"Paartie by Jake's is, sy gebreke ten spyt, meer as net nog ’n bundel kortverhale in ons kortverhaal-era. Dit is ’n bewys dat die skrywer langer en korter prosa kan skryf, maar veral bevestig dit die eiesoortigheid van Jaco Fouché binne ons letterkunde waar inteelt van gedagtes, karakters en skrywers nogal benouend begin word het. En dit verskaf meteens aan ons in Afrikaans weer heelwat ironiese ruimte."

In Die Burger (17 September 1997) is Johann de Lange van mening dat Jaco Fouché se stem onmiddellik herkenbaar is in Paartie. Die styl kan beskryf word as dié van "ekonomiese beweging" – die slotwoorde van die laaste storie. "Gestroopte vertellings wat dikwels bedrieglik eenvoudig aangebied word."

En in sy resensie in Insig van Oktober 1997 skryf HP van Coller: "’n Tweede boek is dikwels die graf van ’n 'belowende skrywer'. Ongeag ’n jeugdige oordaad wat betref beskrywing en simboliek; nieteenstaande enkele uitgesponne verhale en stilistiese gebreke, slaag Fouché sy toets met vlieënde vaandels. Hier is ’n skrywer aan die woord wat waarskynlik ook in ander genres (soos die jeugverhaal en die drama) sy stempel gaan afdruk."

Intussen (1994) begin hy werk as klerk en verkoopsman by SprayTech in Bellville, maar om die pot beter aan die kook te hou, aanvaar hy weer ’n pos by Sanlam toe hulle hom dit aanbied. In 1998 bedank hy by Sanlam en verhuis na die platteland, na Prins Albert, om voltyds te skryf. Na drie maande daar moet hy weens ongesteldheid na Bloemfontein verhuis, waar hy by sy ouers gebly het. 

In 2005 verskyn Die avonture van Pieter Francken en in 2007 die novelle Twee dae in Mei. Van Jaco se kortverhale word in Sarie gepubliseer en in 2007 vertaal hy Kleinboer se veelbesproke roman Kontrei in Engels; die vertaalde werk word deur Zebra Press uitgegee onder die titel Midnight missionary.

Agt jaar verloop voordat Jaco se volgende boek, Die avonture van Pieter Francken, in 2005 by Tafelberg uitgegee word. Toe ’n kollega van Jaco soek geraak het en hy hom moes gaan soek, het dit die saadjie geplant vir die ontstaan van Pieter Francken, vertel Jaco aan Jaco Jacobs (Insig, April 2005). "Maar van toe af het ek geworstel met die ding – wat kon van hom geword het as hy regtig verdwyn het ...?"

Hy verduidelik verder aan Jacobs: "Die enigste ander ooreenkoms met my eie lewe in Die avonture van Pieter Francken kan ek teruglei na 1993 tot 1994. ’n Vriendin van my het toe nog by die kraameenheid in Elsiesrivier gewerk. Ek het party nagte daar gesit en video's kyk – darem nie in die kamer waar die bevallings plaasgevind het nie – en so het ek ’n gevoel gekry vir die kliniek in die nag. Ek het ook van die stories gehoor, soos mense wat vertel as een van die gangsters pa word, is die hele gang daar."

Maar hy het nie eintlik verder enige formele navorsing gedoen oor bendes, politieke interaksies en die bruin woonbuurte in die Kaap nie – sy verbeelding het die res ingekleur.

Jaco wou ook wegbeweeg van die tipe hoofkarakter van Die ryk van die rawe, erken hy teenoor Jacobs. "Ratkas is klaar en verby. Hy's ’n vreeslike senuagtige ou. Pieter is vriendelik. Hy reik uit na ander en hy's hartlik. Hy's een van daai aangename mense. Jy skrik so half, want jy kan nie glo ’n ou kan so nice wees nie. Hy het ook maar sy foute – hy's nie eintlik ’n goeie gesinsman nie – maar hy's ’n outgoing tipe mens, al is hy maar pieperig."

Oor die storie van Pieter Francken skryf Stoffel Cilliers (Volksblad, 16 Mei 2005) dat hierdie beslis nie jou gewone avontuurverhaal is nie en dat die hoofkarakter ook nie juis ’n avonturier is nie.

Pieter Francken is ’n jong bestuurder in ’n familie-onderneming, nie baie bekwaam nie, en wat sy pos aan sy swaer te danke het. Toe, een Vrydagaand, gaan soek hy na een van sy werknemers wat vir ’n paar dae al nog nie op kantoor was nie. Só beland hy in die bruin gemeenskap van Koningsdal op die Kaapse Vlakte, in allerhande ongewone situasies en waar sy pad met ’n verskeidenheid mense s'n kruis.

"Uiteindelik wonder ’n mens of die eintlike pluspunt van die roman nie die skitterende detail-beskrywings van die milieu is wat voortdurend vinnig wissel nie. Ook die atmosfeer is met bekwame pennestreke geskets. Met die struktuur van die roman is baie geslaag geëksperimenteer.

"Om ’n minder bekende gemeenskap se andersheid deur vreemde gebeure oortuigend voor te stel; om feitlik die hele roman se storielyn in net één nag saam te pers; om op die ontwikkeling van hoofsaaklik één hooffiguur te fokus, is ’n groot uitdaging wat die skrywer vir homself gestel het.

"Hy het beslis nie misluk nie. Hierdie roman is aktueel en kan met vrymoedigheid aanbeveel word. Dit sal om meer as een rede aanklank vind by ’n verskeidenheid lesers en sal in die geheue voortleef."

Ook Louise Viljoen was beïndruk met die boek. Sy skryf in Rapport (1 Mei 2005) dat dit ’n "helder en onpretensieuse roman" is, maar dat die skrywer dit ook in ’n verbeeldingryke Afrikaans geskryf het.

"Dit is ’n roman wat die leser op verskillende maniere aanspreek: daar is die avontuurlike realisme van die oppervlak, die sinryke implikasies van die argetipiese vlak, die beeld van die gewone mens wat hom uiteindelik versoen met die absurditeit van die lewe deur daaruit ’n bepaalde soort sin vir homself te kry, die boeiende perspektief op die opheffing van die hoofkarakter se rasse- en klassevooroordele en die sober tekening van die Suid-Afrikaanse werklikheid.

"Die avonture van Pieter Francken is ’n besonder knap roman wat hom eweneens gaan onderskei in die Afrikaanse letterkunde. Die lang wag ná die verskyning van Fouché se eerste twee werke was in alle opsigte die moeite werd."

Fouché se volgende roman, 2 dae in Mei, speel in Bellville af en vertel van die dinge wat in twee dae met ’n groepie mense gebeur. Hulle is ’n klompie kennisse deur hulle lidmaatskap van of betrokkenheid by ’n tak van Alkoholiste Anoniem in Bellville.

Haydee Morgan-Hollander (LitNet) wou by Jaco weet hoekom hy die maand Mei gekies het vir die titel: "Ek het lank gedink om ’n storie oor die AA te skryf. Ek het so ’n plan gehad om vier kortverhale ineen te laat loop en kortverhale het mos gewoonlik ’n kort tydsverloop, derhalwe die twee dae. Ek het ook ’n fliek met Charlize Theron gesien met die titel Two days in the Valley en baie van die titel sowel as die kort tydsverloop gehou. Die titel was eers Robert, Elna, Jim en Ina. Eenmaal in 2005 het ek in Meimaand hier in Bloem in ’n parkeerterrein gesit en wag en sien toe ’n man wat van boompie na boompie loop en die laaste herfsblare met ’n harksteel afslaan. Toe dink ek: 2 dae in Mei. Dis nie ’n boek wat jou van vreugde laat rondtrippel nie, maar dit sal jou ook nie na opkikkers dryf nie. Dis ’n stil boek waarin mense hul voorstedelike gang gaan. Hul alkohol-afhanklikheid onderskei die karakters van hul bure." (Die Burger, 29 November 2007)

“Ek dink die lae-middel- en werkersklas word in die algemeen verkeerd ­verstaan. Hulle het nie net hartseer ­lewens nie. Daar is dikwels meer spontaniteit en humor, minder geveinsdheid en ’n beter ondersteuningstelsel as onder meer welgesteldes,” vertel Jaco, die seun van ’n landdros, aan Die Burger. “Ons was nie welaf nie, maar het grootgeword met boeke en skilderye en daarom was ons bevoorreg.

“Ek dink my fassinasie met die ­werkersklas kom van my dae in die weermag. Die stories van mense uit dié klas het my tóé gefassineer. Terwyl ek in ’n kroeg in Bellville gewerk het, was van die gereelde ouens twee motorwerktuigkundiges wat altyd in swart klere opgedaag het. Hulle het na musiek geluister wat vir my vreemd was. Hulle was werkersklas maar ook anargiste en het goed op ’n ander manier gedoen. Dalk is daar iets eksoties vir my in die werkers- en laermiddelklas omdat dit anders is as hoe ek grootgeword het.” 

Hy het self die pad van alkoholisme gestap en was ’n paar jaar by die AA. Hy was teen 2007 al vier jaar droog. “Die tyd by die AA was goed vir my. Ek het by hulle aangesluit omdat almal om my gesê het ek drink te veel. Ek het besef dinge sal nie beter word as ek nie self iets doen nie. 

“Ek is bly ek was daar toe ek nog ­redelik jonk was. Dis beter om by so ’n groep aan te sluit as jy 26 eerder as 46 is. Ek het praktiese lewensvaardighede by die groep in Bellville geleer. ’n Mens raak moeg vir raising hell.” 

Hy het lank rondgeloop met die idee om iets oor die AA te skryf. Maar daar is ’n kode van anonimiteit. “Uiteindelik het ek besef dit is laf om met iets só interessant rond te loop. Ek is ook nie meer lid van die groep nie. Ek is nog nie uitgeskryf oor my ervaring daar nie. Daar is nog soveel stories.” 

In Rapport (16 September 2007) skryf Koos Kombuis dat 2 dae in Mei nie Jaco Fouché se dikste of belangrikste boek tot op daardie stadium was nie en daar gebeur ook nie veel met die karakters in hierdie storie nie.

"Daar is nie eintlik sprake van ’n spanningslyn of intrige nie. Soos die ouens in De Avonden van Gerard Reve strompel hulle lukraak deur hul eie lewens, vat hier en vat daar, en kom selde of ooit tot enige slotsom. (...)

"Die karakters is vaal. Die storie is vaal. Die enigste sekstoneel in die verhaal is ’n mislukking omdat die vervaldatum van die protagonis se ereksiepille verstryk het. Die hoogtepunt van die gebeure is wanneer iemand laat in die nag teen ’n dumpster vol vuilgoed vasloop.

"Nou hoe kry so ’n boek dit reg om so in ’n mens se hart te kruip? Hoe kry die skrywer dit reg om hierdie groepie uiters oninteressante mense so te skilder dat sy so intiem vir hulle omgee?

"Die tegniek wat Fouché gebruik, ontsnap my. Daar is geen fensie literêre truuks nie, geen overte boodskap nie, geen verduidelikings of prekery nie. Om die waarheid te sê, behalwe ’n effense hoogdrawendheidjie hier en daar, is sy verteltrant so gestroop van pretensie soos die siele van die mense wat hy beskryf. Ek is nie seker waarom hy die boek geskryf het nie. Ek weet ook nie of dit sal verkoop nie. Dit maak seker nie saak nie.

"Al wat ek weet, is dat ek my eksemplaar van 2 dae in Mei nooit wil weggee of uitleen nie. Ek wil dit een keer per jaar weer uithaal, daardeur blaai en aan die bladsye ruik. En dan sal ek dalk ’n droërige traantjie stort oor Elna, Robert, Jim en hulle vriende en wonder waar hulle nou is en wat van hulle geword het."

Ook Mariana Loots is vol lof vir 2 dae in Mei (Die Burger, 27 Augustus 2007): "Die leser reis ’n paar uur op ’n keer in elke hoofkarakter se gedagtes saam – ’n wandeling wat so oortuigend word dat ’n mens naderhand byna verwag om hulle môre in Voortrekkerweg te eien as jy daar verbygaan.

"Tog staan die leser nie buite die teks nie: Die karakters se behoefte aan ’n tikkie normaliteit wat hulle om hulle bespeur, aan aanvaarding en die geleentheid om iemand binne te laat, klots teen daardie stukkie van die siel wat gewoonlik vir ander verberg bly. Met sy fyn skrywersoog ruk Fouché die leser pal tot heroorweging en herwaardering van dit wat pas klaar gelees is – en vanselfsprekend sy uitsonderlike talent.

"2 dae in Mei is ryk aan eerlikheid, deernis, menslikheid en spitsvondigheid. Maak dit deel van jou versameling."

Jaco word beskou as een van ’n nuwe geslag Afrikaanse skrywers (wat ook jong skrywers soos Tom Dreyer insluit) wat Hennie van Coller “ons eie Tarantino-geslag” noem. In ’n artikel in Rapport sê Jaco self oor hierdie kwessie dat dié jonger geslag skrywers “die produk van swaar onderstrominge” is.

Jaco was huiwerig toe Theunis Engelbrecht (Beeld, 12 Junie 1997) hom vra watter temas tot hom spreek as dit by sy skryfwerk kom. “Ek weet nie van temas nie, nie in my eie skryfwerk nie, in elk geval. Godsdiens staan my baie aan, of pla my baie. Iets wat ek soms wonder oor Graham Greene is of hy in God geglo het. Lees ’n mens die biografie oor hom, The Man Within, dan dink jy nee. Maar lees jy sy boeke, dan neem jy aan hy beskou dit as aksiomaties dat God bestaan. 

“Of is dit bloot net ’n beter letterkundige idee om ’n instelling soos die Rooms-Katolieke kerk te ondersoek as om verder op die saak in te gaan en so God self te wil konfronteer? Vir die doel van sy boeke maak dit seker nie regtig saak of God bestaan nie. Wat belangrik is, is dat die Roomse kerk bestaan. Maar dit is beslis iets wat my pla: hoekom bestaan God maar meestal in daardie oomblikke dat ’n mens (of ek) baie bang is, of baie gelukkig? Waar is Hy die res van die tyd? Besig om enkelrye spore op die sand neer te sit? 

“’n Ander tema, as ’n mens dit so kan noem, is dié van die enkeling, die mens wat afgesny is van sy omgewing. En wanneer so ’n karakter wel aansluiting vind, is dit ten koste van soveel dinge: sy tyd, sy visie ... sy integriteit selfs, want ’n mens kan nie met 
ander mense omgaan sonder om kompromieë aan te gaan nie. 

“Ek dink selfsug is seker die bottom line. Dis my tema, ja, selfsug. Die hele ding van ’n mens het net soveel lewensjare tot jou beskikking. Hoeveel daarvan durf jy aan ander mense afstaan sonder om jouself te verloën? En hoe immoreel of sondig is dit nie dalk om daardie tyd vir jouself te hou nie? Ek lees nou die dag iets van Marthinus Versfeld waarin hy liefde definieer as die tyd wat jy bereid is om aan jou medemens af te staan. Dis ’n goeie definisie.” 

Jaco het ook in 1997 aan Engelbrecht gesê hy het nie juis ’n mening oor die voortbestaan van Afrikaans nie, behalwe dat daar so ’n ophef van gemaak word dat hy nie glo dit is werklik so ’n krisis nie. Hy meen ook ons gaan Amerikaniste in die plek van die sogenaamde tradisionele Afrikaner kry. “Ons leefstyle word gedefinieer deur die indruk van Amerika. Ons tieners meet hul sosiale prestasies aan Party of Five. Ons jong mans  is Bruce Willis- of Robert de Niro-aanhangers, ons jong vroue vergelyk hulself met Bridget Fonda en Elizabeth Shue. Ek praat nou die dag met iemand oor Marius Weyers, toe word ek ingelig dat ‘hy dit nie gemaak het in Hollywood nie’. Vergeet The Honeybird en Death in the Family en Phoenix en kie en al die werk wat die man al gedoen het. Die standaard waaraan gemeet is, was Amerikaans en die (Suid-) Afrikaner het dit maar weer nie gemaak nie.” 

In 2009 verskyn Ed van Inligtingstelsels met die subtitel ’n kantoorwerkersklasroman. Ed, ’n geskeide man wat by ’n versekeringsmaatskappy werk, het ’n geskiedenis van alkoholisme. Sy lewe is maar bra vervelig en hy lewe maar so van dag tot dag. Ook sy vriendskappe is eensydig, sy verhoudings ontwikkel tot niks nie en sy een droom – om skrywer te word – is ook besig om ’n doodgebore droom te word, skryf Desmond Painter (Die Burger, 21 September 2009).

Vir Painter het die roman nie veel van ’n ­storielyn nie. Daar is terugflitse na Ed se huwelik, sy dienspligjare en ­an­der momente uit sy verlede, maar oor die algemeen volg die ­leser Ed werk toe, biblioteek toe, kroeg toe, of op wandelinge deur Bellville se strate. Niks gebeur nie; Ed is aan die stagneer. Hy probeer ’n ver­andering in sy lewe teweegbring met ’n onbesonne daad, maar ook dit lei tot ’n antiklimaks. Die ­roman eindig met Ed, sy lewe ­grootliks onveranderd, wat deur Bellville se strate loop.

Ed van Inligtingstelsels is geskryf in die onopgesmukte, realistiese styl van iemand soos die Amerikaanse skrywer Richard Ford, self natuurlik ’n meester van die voor­stede­like, middelklasroman. Anders as Ford en anders as in sy eie beter werk, ontgin ­Fouché nie sy gegewens hier be­vredigend nie.

Die bakens van Ed se wêreld is vir die leser hoogs herkenbaar. Omdat hy ­egter redelik opper­vlakkig, amper kosmeties, met dié ruimtelike gegewens omgaan, neig die roman, wat betref die uit­beelding van Bellville en die ­voorstede, by tye na die stereo­tipiese. Dieselfde geld die karakters. Hulle bly tot ’n groot mate een­­dimen­sio­neel. Veral die paar vroue met wie Ed uitgaan, word ­on­geloofwaardig en ­amper ­verspot uitgebeeld. Verder word elemen­te wat tot spanning en meer gedronge, prie­mende skryf­werk aanleiding kon gee, soos Ed se liefdes­verhoudings, alkoholisme en kwellinge by die werk, amper nooit trompop ­geloop nie.

Aanhangers van Fouché sal moont­lik van dié roman hou, en vir sommige lesers sal die her­kenbaarheid van die wêreld wat hy beskryf, dalk genotvol wees. Self vind Painter hierdie roman egter ’n (hopelik tydelike) insinking in Jaco Fouché se oeuvre.

Met die verskyning van Jaco se Skrywersblok en ander verhale (2009) keer hy terug na die genre van die kortverhaal. “Hy ken die suburbs soos die palm van sy hand,” sê die skrywer-karakter Chris Fourie in die verhaal “Skrywersblok”. Dié “hy” kon net sowel Jaco Fouché gewees het. Met hierdie kortverhaalbundel maak Fouché weer eens sy merk as skrywer wat die grinterige binnewerkinge van die ‘burbs soos ’n intieme vriend ken, staan in Rapport (16 Junie 2009).

Hy bou voort op temas wat nou reeds bekende terrein in sy oeuvre is: Net soos in sy vorige boeke speel baie van die verhale in Bellville af; en die kroeg Jake’s Place, wat reeds met Paartie by Jake’s (1997) ’n belangrike verwysingspunt geword het, is weer ’n gewilde uithangplek. Daar’s ook die nou reeds bekende droë, onderspeelde sin vir humor en selfs sekere karakters wat lesers van Fouché se werk uit vorige boeke sal herken. Veral treffend is Fouché se gebruik van gevatte dialoog, sodat jy nooit die idee kry dat die letterkunde vir hom ’n “saak van humorlose erns” is , soos dié waarvan Fourie in die titelverhaal praat nie. In die meeste verhale is daar ’n speelsheid en ’n ligtheid wat die teken van ’n ervare skrywer is.

Vir Jaco Jacobs (Beeld, 1 Junie 2009) is die groot plesier van Fouché se werk sy vermoë om die afgeloopte buitestander te skets en die manier waarop hy op intellektuele wyse die wêreld van die randfiguur verken: grinterig, subtiel en dikwels met ’n goeie skeut donker humor daarby. Jacobs het enkele besware, maar uiteindelik is Skrywersblok vir hom’n boeiende leeservaring wat jou na ’n verskeidenheid ruimtes neem en jou bekend stel aan die soort mense wat jy elke dag sien, maar nie noodwendig ooit werklik leer ken nie.

In Beeld van 24 April 2010 skryf Willemien Brümmer dat Jaco se grysland op daardie stadium verby was. Dit was nie meer vir hom nodig om onbelangrike werk te verrig soos hy gedoen het by Sanlam of Spray Tech of Jimmy's Grill nie. Vanaf 2000 is hy voltyds besig met sy skryf- en vertaalwerk. "Jy moet verantwoordelikheid vir jouself aanvaar" is een van Alkoholiste Anoniem se slagspreuke waaraan hy groot waarde heg.

In sy eie lewe was daar boonop, net soos in dié van Phillip in Grysland-verblyf,  ’n deus ex machina in die vorm  van ’n vrou. “Al wat ek kan sê, is ek is dolgelukkig getroud en dis baie lekker om weer op my tuisdorp te woon. Voor dit was ek vas oortuig ek gaan nooit trou nie. Ek het gedink ek gaan soortvan oud word in Bloemfontein en af en toe iets vertaal of skryf. En toe kom Lorraine, en dit was nogal ’n keerpunt.”

Lorraine se familie boer buite Wellington. En sy het vir Jaco in die wêreld van plase en plaasmense ingedra, vertel hy aan Willem de Vries. Hulle bly nou in Sandbaai naby Hermanus en hy dink nie meer aan homself as ’n Bellville-boytjie wat die penskant van die Boereworsgordyn tot op die droesem wil ontgin nie, skryf Willemien Brümmer in By in 2007. En “lo and behold. Ek gaan deesdae kerk toe.

“In my skrywerslewe tot dusver het ek Bellville soortvan as my tuisdorp aangeneem, terwyl dit glad nie in die regte lewe is nie. Ek het (ná die weermag) agt jaar daar gewoon. Maar ek het op baie ander plekke ook gewoon. En was ek in die Transvaal in die laerskool en toe ’n rukkie in die Oos-Kaap.

“Ek was in Hermanus op hoërskool, en ek het hier gematrikuleer. Dis lekker om terug te wees hierso. Hermanus is miskien my tuisdorp in die regte lewe, al het ek hierdie fiksasie met Bellville ontwikkel.

“Daar is net iets aan Bellville. Veral toe ek begin treinry. Ek was versot op treinry. Daar’s predikers op die trein, daar’s mense wat jou wil besteel, dis net so ’n lewendige wêreld. Ek mis dit in ’n mate.

“Desembermaand (2003) was ons in Bellville vir ’n fotosessie vir Kwêla Boeke, toe ry ek vir die eerste keer in agt jaar weer trein. Net van Tygerbergstasie na Bellville sodat sy (die fotograaf) ’n paar foto’s kon neem. Die interessante ding was, toe ons op die trein klim, het daar ’n plas halfdroë bloed op die vloer gelê.”

Willemien Brümmer skryf dat dit juis die halfdroë bloed, die randfigure, die “onbeduidendes” uit die middel- en laer-middelklas is wat sy skryfwerk reeds sedert sy debuut, Die ryk van die rawe, kenmerk. Dié roman, waarmee hy in 1997 die Eugène Marais-prys verower het, handel oor die jong Ratkas, wie se pa saans na treine geruik het en in Londen by allerlei onbesonnenhede betrokke raak. Sedertdien was sy karakters byna altyd opdrifsels, uitvaagsels, anti-intellektuele wat eerder bier sou drink as om die wêreld te probeer verander.

“Maar,” sê Jaco, “Die skop-skiet-en-doodslag-goed is alles wel as jy in jou twintigs is, maar dit lyk ’n bietjie fishy in jou veertigs.

“Die ander sy van die saak is, ’n mens sit vir sewe boeke vas in Bellville, so jy moet een of ander tyd vooruitgaan. Jy moet aanbeweeg na ander plekke en dinge. My boek wat verlede jaar verskyn het, Ed van Inligtingstelsels, is hopelik nou Bellville wat uit my uitgeskryf is. Dit het nog baie kroeë en bier en sulke goed in. Maar van nou af is dit chamomile-tee.”

“Ek wil nie meer hierdie negatiewe goed skryf nie. Dis niemand tot stigting nie, en dit lei ook nie tot goeie verkope nie.”

Dit is nou eers, met sy sewende en jongste boek, dat hy ’n slag “iets Oprah-rigs wou skryf”, sê hy. “Iets uplifting wat positief eindig en so.”

Die tema van Die Grysland-verblyf put egter steeds uit die donker onderwêreld – dié keer die penskant van die gees. Die hoofkarakter, Phillip, is ’n skilder met een uitstalling agter die rug. Net soos Jaco destyds begin hy om den brode by ’n finansiële instelling in Bellville werk, maar hy het ander planne as om lewenslank ’n kantoorwerker te wees.
Stelselmatig kom verandering in sy eentonige en saai lewe: hy begin snags wakker word met die oortuiging dat daar pas iemand in sy kamer was. Soggens op pad werk toe begin hy agterdogwekkende figure opmerk.

Die boek word ’n onsentimentele blik op die geleidelike aftakeling van ’n man wat aan skisofrenie ly. Dit totdat sy lewe, à la Oprah, in die laaste ses bladsye opgehelder word deur “beduidende toeval en ingryping” in die vorm van ’n vrou.

Verskeie van die plekke in die boek is bakens uit Jaco se verlede: Bellville; Bloemfontein, waar hy tien jaar lank by sy ouers gebly het; Johannesburg, waar hy drie maande lank ’n teksskrywer by ’n televisiesender was; Prins Albert. “In ’n sekere sin is hierdie boek meer outobiografies as my vorige werke.”

Hy is onwillig om te veel teenoor Willemien Brümmer te sê oor sy “navorsing” oor skisofrenie – ’n siekte wat volgens hom in die populêre verbeelding gepaard gaan met “messe en byle”.

“Ek wil nie te veel daaroor sê nie, onder meer omdat ek nog iets wil skryf daaroor. (Wat hy toe wel gedoen het, in Verstevlei.) Maar ek het met skisofrenie te doen gekry, en in ’n stadium was ek vreeslik geïnteresseerd daarin. Ek dink ek het psigose redelik vasgevat, of so goed ek kón in elk geval. Ek het eintlik ’n interessante probleem met die storie gehad, want die ding van skryf oor al hierdie ervarings wat die hoofkarakter traumatiseer, is nie alles goed wat regtig gebeur het nie. Dis amper soos ’n hoërskoolkind wat ’n opstel skryf en aan die einde sê hy dis alles net ’n nare droom.”

Die saadjie vir dié “nare droom” is geplant toe hy self in Maart 1998 uit Bellville na Prins Albert getrek het om, so het hy gedink, die “kluisenaarsbestaan van ’n kunstenaar” op te soek.

“Dit was nogal vir my ’n belangrike stap in my lewe. Dit was asof alles daarop afgestuur het. Al wat ek daaroor  kan sê, is ek het geweet dit gaan stil wees, maar ek het nie geweet dit gaan só stil wees nie.

“In Die Grysland-verblyf  wou ek iets geskryf het oor die tyd wat ek in Prins Albert gebly het, en toe het die ander goed nou maar so aangeheg, aangelas en so.”

Dit het vir Jaco ’n hele tien jaar geneem om Die Grysland-verblyf te skryf – tot op daardie stadium die langste van al sy boeke. Hy het soms hier gevat en daar gelos en tussenin het hy vier of vyf ander boeke geskryf, wat nie almal uitgegee is nie.

Die Grysland-verblyf verken die lewe van Phillip, ’n jong en redelik suksesvolle skilder, wie se eerste uitstalling afgehandel is. Terwyl hy met die volgende een besig is, betree hy die korporatiewe wêreld – iets waarvan hy nie veel hou nie. Só begin hy geleidelik uitrafel – hy hoor stemme, ruik ’n vreeslike stank en raak paranoïes.

Hy verlaat die stad en trek Karoo toe, maar ook daar begin die vervolging. Hoe hy leer om sy siekte te herken en daarmee saam te leef, is die tema van Die Grysland-verblyf, skryf Cecile Cilliers in Die Burger van 14 Junie 2010.

"Die novelle is goed gekonstrueer. Vroeg al word die seine gelê wat dui op Phillip se groeiende verwarring en vervolgingswaan. En die verskillende stadia van sy skisofrenie en ander se reaksie daarop word goed hanteer. Van die oortuigendste tonele en karakters in die boek is in die psigiatriese afdeling van die Oranje-Hospitaal in Bloemfontein.

"Maar tragies soos die tema mag wees, is die aanbieding ver van somber. Fouché het ’n ligte, bykans humoristiese aanslag en ’n wrang ironiese manier van dinge sê. (...)

"Die Grysland-verblyf is ’n reguit, op die man af vertelling, ’n onthullende en soms onthutsende verslag oor die geestestoestand wat as skisofrenie bekend staan. Fouché se amperse staccato styl verleen aan die vertelling ’n beklemmende realiteit, maar daar is nie ’n sweem van sentimentaliteit of jammerte nie. Onder sy hande word Phillip, ten spyte van sy geestelike afwykings, ’n simpatieke karakter wat die leser saam met hom laat hoop en verlang dat hy tot selfbegrip en heling sal kom."

Op LitNet sluit Stephanie Nieuwoudt haar bespreking van Die Grysland-verblyf as volg af: "Fouché se roman bied ’n meer hoopvolle toekomsvisie vir mense wat aan skisofrenie ly. Dis in kontras met Papawers, ’n boek waarin die Nederlandse skrywer Ingrid vander Veken haar stiefseun se hartverskeurende lyding as skisofreen uitbeeld. Die boek, wat oorspronklik in Nederlands geskryf is, het onlangs in Afrikaans verskyn. Vander Veken se stiefseun het meestal geweier om sy medisyne te drink en het ontken dat hy geestesversteurd is. Met tragiese gevolge. Daarteenoor erken Phillip in Die Grysland-verblyf dat hy siek is, en besef hy die waarde van medikasie. Dit is sy redding.

"In die literatuur oor skisofrenie word dikwels beklemtoon dat ’n ondersteunende gesinsverband positief tot die bestuur van die toestand bydra. In Die Grysland-verblyf begin Phillip ’n verhouding met ’n ou kennis en hulle is skynbaar vir altyd gelukkig saam. Maar hoewel ’n liefdevolle lewensmaat inderdaad ’n skisofrenie-lyer kan bystaan, is die beskrywing van die (her)ontmoeting en die verhouding en Phillip se pad na genesing te skraps. En dit lyk ook net te maklik dat Phillip onder invloed van sy lewensmaat by die kerk die aanvaarding en antwoorde vind waarna hy heeltyd soek. Dis asof Fouché gejaagd na ’n einde toe geskryf het. Man ontmoet vrou en tjoeftjaf is die lewe op pad na ’n sprokiesverhaaleinde. ’n Mens sou graag meer wou lees oor hoe die vrou en Phillip tot die besluit kom dat sy haar lewe sal wy aan iemand wat dalk enige oomblik weer ’n psigotiese insinking kan ervaar. Die leser kan dalk verkeerdelik onder die indruk kom dat liefde inderdaad alles oorwin en selfs ’n lewenslange, ongeneeslike toestand soos skisofrenie kan genees.

"Die Grysland-verblyf is soms humoristies en soms hartverskeurend. En hoewel daar voor in die boek duidelik gemaak word dat ooreenkomste met die werklikheid slegs toevallig is, voel die ‘verhaal’ baie soos iets wat die skrywer self deurgemaak het."

En toe, in 2012, ontvang Jaco vir sy mees onlangse manuskrip, Liefste Lena, die derde prys in NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd, naas Ingrid Winterbach en Chris Karsten. Dit is in 2013 gepubliseer onder die titel Verstevlei. En volgens Jaco handel dit oor liefde, ’n Bolandse plaas, drie kroeë en ’n bietjie kranksinnigheid.

Die beoordelaars het in hul commendatio genoem dat die gebruik van twee verhaallyne wat in verskillende rigtings ontwikkel, hulle aan die film Fight Club herinner. Bibi Slippers wou weet of  Jaco ’n fliekvlooi is en of hy dink sy skryfwerk word deur films beïnvloed. Is daar spesifieke regisseurs wie se werk hy bewonder?

“Ek hou van flieks, ja, maar ek is nie ’n discerning film guru nie en geniet omtrent enigiets wat ek kyk. Die Rocky-flieks geniet ek altyd, en die meeste romantiese komedies ook. Jackie Chan is puik. Op die oomblik kyk ek partykeer snags na e-tv se ou flieks en dis hartverskeurend om te dink dat daardie mense wat so lewendig en flink op die skerm voorkom, almal oorlede is.

“My vyf gunstelinge is The remains of the day (alhoewel ek moet sê, toe ek dit die laaste keer probeer kyk het, het ek gevoel nou het ek genoeg daarvan gesien), The Aviator (oor Howard Hughes, en deur Martin Scorsese gemaak), Into the wild (vir my die beste fliek wat ek in seker vyf jaar gesien het), Glengarry Glen Ross (die draaiboekskrywer David Mamet is uitstekend), en ja, ook Fight Club. Ek het nie voorheen besef dat daar ’n ooreenkoms tussen my storie en laasgenoemde fliek se verhaallyne is nie, maar ek sien dit nou raak. Ander flieks wat in hierdie verband genoem moet word, is egter ook Jacob’s Ladder en One flew over the cuckoo’s nest en miskien Birdy. Dis almal flieks oor nuttinessJacob’s Ladder het ek net ’n deel van gesien, maar dit was verstommend hoe die storie tussen verskillende verhaallyne glip en daar so ’n smorende atmosfeer van geweld en bedreiging bly hang. En aan die einde is daar ’n terugflitstoneel wat maak dat ek nie kon besluit wat moet ek glo en wat nie. Ek dink dis ’n goeie opsomming van kranksinnigheid, dat ’n mens nie weet wat jy moet glo en wat nie. Wat is relevant? Wat is waar? En as persepsie alles is, beteken die werklikheid as sodanig nog veel? Of is die waarnemer belangriker?”

Oor die derde prys wat Jaco vir Liefste Lena gekry het, sê hy dat dit lekker is om so iets te kry en dat hy verlig is dat die kranksinnigheid-tema toe tog die moeite werd was om oor te skryf. Hy wil nog ’n boek daaroor aanpak om ’n drieluik te vorm saam met Liefste Lena en Grysland-verblyf, maar hy wil intussen nog ander dinge ook aanpak. “Party keer snags wanneer ek Westerns op e-tv kyk, dink ek ek moet ook een probeer. Ek wil ook ’n liefdesverhaal aanpak. Liefste Lena is klaar een, maar ek bedoel ’n verhaal van ondraaglike begeerte en groot drome teen ’n eksotiese agtergrond. Maar die lewe gooi ook sulke draaie met ’n mens dat ek sal moet sien of hierdie planne gebeur.” 

In teenstelling met sy stories waar verhaalgebeure in Bellville die fokus is, ontvou Verstevlei grotendeels in die Boland. “Toe ek begin publiseer, was dit in Bellville en vir lank was dit asof ek net Bellville ken en daaroor moes skryf.”

Hy vertel aan Willem de Vries: “Die blote Bolandse landskap verlei ’n mens al om aantekeninge te begin maak. En dan loop jy die mense in die landskap raak en moet met hulle omgaan en dis daardie spanning wat ’n mens aan die skryf, of sekerlik skilder, kry.

“Die plaas in die roman is gebaseer op ’n wonderlike plek in die Bovlei buite Wellington. Dis die plaas Welvanpas waar die Retiefs boer, waar ’n mens kan gaan bergfiets ry, en wyn proe as jou lus daarna is.”

Oor sy karakters, wat gewoonlik buitestanders is en wel ter tale is, wou De Vries weet of  dit so is omdat hulle deur haarfyn beskrywings en momentopnames betekenis in hul verhale tot stand bring en of verteller en skrywer saampraat in die hoofkarakters se woorde.

“Ek is geseënd om ’n mate van uitdrukkingsvermoë te hê. En jy vat iets raak wanneer jy sê so iets bring betekenis in ’n lewe in. Beslis in myne. Dis bemagtigend om ’n toneel of situasie te kan beskryf en aan ’n leser bied vir sy goedkeuring, of ten minste dan betragting. Die welsprekende karakters kom uit sy mond uit,” sê Jaco. “Hulle is maar almal ek in vermomming, selfs die grootste droogmakers.”

Hy sê Verstevlei sluit by sy vorige romans aan “veral ten opsigte van die soort hoofkarakter wat seker nie die wêreld se dapperste of eerbaarste ou is nie”. Hy hou van karakters wat weerloos is, maar tog bereid is om moeilike dinge aan te pak.

“Ook kom die hoofkarakter uit ’n gebied soos Bellville, maar hierdie slag Vereeniging. Dus is die voorstedelikheid weer in ’n mate aanwesig, hoewel daar weggekom word daarvandaan.”

In Verstevlei kom verskeie sienings van die Afrikaner aan bod. “Ek is soos baie wit Afrikaanssprekendes behep met die idee Afrikaner,” sê Fouché. “Is daar so ’n volk? Moet daar so iets wees? Moet ons nie eerder heeltemal uitmekaar gaan nie? Is ons homogeen? Moet ’n mens bly wees vir regse mense? Moet jy bang wees? Dit sluit ook by die plaas aan, wat ’n soort bakermat vir die boer én Boer is. Dis ’n interessante onderwerp.”

De Vries wou by Jaco weet of hy ook soos die Amerikaner Edward Hopper is wat telkens in sy skilderye ’n soort storieverteller is wat die kyker ruimtes en figure wys en dit aan die kyker oorlaat om sin te maak van dit waarmee hy fasette van Amerika versinnebeeld. Is ’n soortgelyk verteller in Verstevlei aan die beurt?

Hierop antwoord Jaco: “Dis ’n interessante benadering. Ek kan ’n ooreenkoms sien met my eie ... Ek bedoel dat ek ook dink ’n mens moet ’n situasie – beelde, ruimtes, figure – aan ’n leser bied sonder kommentaar, maar natuurlik met leidrade wat hom of haar na ’n slotsom kan neem. Soms dink ek ek is lafhartig om nie in te klim en ’n verskriklike groot kwessie in een fel bloedtappende werk aan te pak nie.

“Daar is mos die vier kritiese kategorieë: ras, klas, gender en ekokritiek. Ek heul met al vier, maar dis soms asof klas en gender vir my die interessantste is, sonder dat ek ’n vaandeldraer wil word.”

Jaco het met die skryf van Verstevlei baie aantekeninge gemaak en die feit dat die roman in die eerste persoon geskryf is, is ’n uitvloeisel daarvan, vertel hy aan JB Roux (Rapport, 21 Julie 2013): "Die eerstepersoon het bly steek toe ek die boek later begin skryf, al was ek maar lugtig vir die eerstepersoon. Ek het gedink dis beperkend, maar dit is glad nie so nie en ek gaan weer die eerstepersoon gebruik."

Roux het verder oor Verstevlei vertel: "Dis nie ’n boek vir lui lesers of sissies nie. Dis ’n karaktergedrewe roman, ’n skets in fyn, pastelkleurige hale waarin die skrywer se skerp waarnemingsvermoë en sy besonderse vermoë om sommer net iets te sê, telkens beïndruk. (...) Dié boek is vir lesers wat op soek is na méér as ontvlugting. En wat ’n ruk lank met ander oë, sensitiewes, na die skynbaar alledaagse wil kyk."

Jaco self beskryf Verstevlei as volg: "Verstevlei is ’n mirage of skimmewêreld. Dis die bestemming (al bestaan dit nie) wat die reis die moeite werd laat voel. Dis dalk wat ook al ná die dood gebeur."

Louise Viljoen noem Verstevlei ’n goedafgewerkte roman wat ’n mens verras met ’n onkonvensionele aanpak van bekende temas in die Afrikaanse literatuur, en Linda Rode sê dit is ’n reis deur die hoogs sensitiewe gees van die ewige buitestander" (Volksblad, 8 Junie 2013).

Dit vertel die storie van Renier Proot, vlak in sy veertigs. Proot het die grootste deel van sy bestaan in Vereeniging gewoon en kon in beide sy liedeslewe en sy werksloopbaan net nie rigting vind nie. Hy het nie net as klerk in ’n boekwinkel gewerk nie, maar was ook ’n danser in ’n klub, skryf Jaco Botha in Volksblad van 8 Junie 2013.

Botha vervolg: "Die storie of stories wat vertel word, is dié van Renier Proot (in sy vroeë 40’s), wat die grootste deel van sy lewe in Vereeniging deurgebring het en wat loopbaan en liefde betref maar net nie rigting vind nie. Hy het as danser in ’n klub en ook as klerk in ’n boekwinkel gewerk, skryf Jaco Botha.

Die roman se subtitel, “Een lewe, twee bestemmings”, bied die eerste leidraad tot die ontrafeling van hierdie Boere-Freudiaanse teks. Renier se storie word in twee tydfases, of werklikheidsfases, aan die leser gebied en deur die gebruik van kursiefdruk van mekaar onderskei.

"In die een fase beleef hy ’n uitsiglose bestaan in ’n woonstel in Vereeniging, die dorp waar hy as die kind van staatsamptenare grootgeword het (ook die kinderlandskap en biografiese werklikheid van die skrywer, Jaco Fouché). Hy ontmoet “vriende” in restaurante vir leë gesprekke en besin baie oor sy drome, verlede en herkoms. Een so ’n vriendin, Pamela, wat hy in ’n braairestaurant ontmoet, vertel hom van Wellington in die Boland waar sy grootgeword het en van die familieplaas, Verstevlei, waar haar neef Bill Andrais en sy gesin steeds woon. Sy wil hê Renier moet haar na die Boland vergesel.

"In die ander fase is hy ’n 'gas' in Huis Genade, waar hy klaarblyklik op sy suster Michelle wag om terug te keer. Renier kan kom en gaan soos hy wil – of is dit net in sy drome? – ten spyte van die drakoniese suster Kloppers, wat hom eintlik net daar uit wil hê.

"Uit die staanspoor word ’n psigoanalitiese lees gevra (“Vroeë drome was daar ook, veral van moord en water” (9)) en regdeur die teks word die tema van die onderbewuste (soms dalk te bewustelik) deurgetrek (“... en ek dink aan die son wat dag na dag oor ons lewens ondergaan, en hoe ons telkens nog iets moet aflê, nog iets moet reduseer tot ’n herinnering wat ná ’n ruk nie meer akkuraat is nie en slegs onduidelike buitelyne in die skemer vorm. Ons geheue is nie so betroubaar soos ons verbeelding nie” (221)).

"Die teks gryp terug na die literêre taal, truuks en reëls van 50 jaar gelede en Fouché sluit – bewustelik al dan nie – by die tradisie van die Sestigers aan. Veral in Huis Genade (wat later as gestig ontbloot word) herinner die teks sterk aan vroeë Leroux-werk.

"Soos in Leroux se werk is die hoofkarakter ’n ewige buitestander – die selfbewuste, verontruste skrywer-tipe – en die karakters tree bloot as argetipes op en word nooit werklik as “mense” van vlees en bloed verken nie.

Die tema van Renier se lewe wat basies in limbo of “purgatorie” (203) verkeer, word ook goed in die vertelstyl weergegee. Dit is of die landskap deur ’n dik laag plastiek waargeneem word en min episodes kom tot volvoering. So byvoorbeeld sterf Pamela lank voordat sy Proot na die Boland kan vergesel en dis bloot sy toevallige raaksien van ’n advertensie vir ’n pos as assistent op Verstevlei wat hom uiteindelik na die Andrais-plaas lei. Op pad na die plaas swem hy in die stroom by Bainskloof, stap kaal deur ’n tonnel en ontmoet so – op ’n ietwat Brinkerige wyse – vir Lena – die Andrais-dogter op wie hy natuurlik verlief raak.

"Uit Huis Genade verken Proot onder meer ’n opleidingskamp vir Afrikaners waaroor hy ’n dokumentêr vir z-tv wil maak en ontmoet in die proses karakters soos majoor De Wet en Ernst Jwara. Wat werklik gebeur en wat suiwer verbeeldingsvlug is, word langsamerhand deur fyn leidrade ontbloot.

"Natuurlik word binne die geesteswêreld van Leroux ook mitologie betrek in die vorm van Christenskap: die praat in “tale” en die uitstorting van die Heilige Gees. In eg Lerouxiaanse tradisie neig alles na die uiteindelike vereniging van die animus en die anima wanneer Proot sy intrek neem by sy suster, Michelle, in Huis Genade – wanneer die skisofrenie genees word."

"Ek hoop dat sekere letterkundiges en lesers met ’n genuanseerde blik groot waarde, heelwat literêre semantiek en baie plesier uit hierdie boek sal kan kry."

In 2014 word Jaco se eerste verhaal vir tieners deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Siobhán van die sirkus.

Op LitNet wou Naomi Meyer by Jaco weet hoe Siobhán van die sirkus sy bestaan gekry het. Jaco antwoord: "Daar is 'n paar bronne vir die boek, maar die een waaraan ek nou dink, is dat Adinda Vermaak, wat bundels vir skole saamstel, my so twee of drie jaar gelede vir ’n kortverhaal gevra het. Ek het toe ’n seun van so 12 of 13 as verteller gebruik. Sy stem het vir my so goed geklink dat ek dit ook in ’n ander, langer storie probeer gebruik het. Dit was ’n verhaal wat nog nie gepubliseer was nie, oor ’n meisie van so 14. En vandaar het ek na Siobhán se stem beweeg wat ek as so half astrant teenoor gesagsfigure gehoor het.

"Verder hou ek al die jare van narre in watter gedaante ook al: harlekyne, boemelaarnarre, mimiekkunstenaars. Toe ek oor hulle begin lees, kom ek op ’n ryk veld van figure en legendes af. En ek kom so elke drie maande of wat in Wellington, wat ’n lieflike plek is, so ek kon oor die omgewing skryf."

Oor die moeilikste deel by die skryf van Siobhán vertel Jaco aan Meyer dat hy geweet het hy wil iets oor ’n sirkuskamp skryf, maar hy het niks geweet van sirkuskampe nie. Waarvan hy wel iets geweet het, was ’n kampterrein in Wellington waar hy in standerd 8 (graad 10) in 1983 ’n skoolkamp bygewoon het: "Ons is weerbaar gemaak en het min geslaap. Vandag is ek bly ek kon daardie ervaring met so ’n draai in my storie aanwend. Om ’n nuwe agtergrond vir ’n storie te kry, is vir my nogal moeilik."

Vir Jaco is die karakter meestal die belangrikste in sy boeke: "Ek is eenkeer in ’n tydskrifonderhoud as ’n randfiguur beskryf, maar die waarheid is, ek is baie lief vir mense. Ek is veral versot op familie-uitleg en staaltjies oor figure uit die ou dae. As jy ’n karakter het, kom die ander dinge gewoonlik daarmee saam, soos elkeen van ons ’n hele sleepsel, ruimte, atmosfeer, tema en intrige aan ons het."

Clara Kirstein het op Storiewerf ook ’n klompie vrae aan Jaco gestel oor Siobhán en die sirkus. Sy wou weet waar hy aan die naam Siobhán met die eksotiese spelling gekom het. "Ek het die naam al voorheen gehoor en eendag ‘n straat in Bellville gesien wat 'Chavonne' genoem is, maar die eksotiese spelling het ek die eerste keer op ‘n TV-program gesien toe ‘n onderhoud met so iemand gevoer is en haar naam onderaan die skerm geplaas is. Dit was ‘n groot verrassing om te sien ‘n mens spel dit so en dit het my bygebly.”

Sy wou ook by Jaco weet hoe hy dit regkry om so akkuraat met die jeug te vereenselwig. Hierop het Jaco geantwoord dat hy nie weet of dit so akkuraat is nie, maar wat vir hom van groot hulp is, is die feit dat sy vrou ’n onderwyseres is en hom gereeld van die tieners se doen en late en sêgoed vertel: "Verder lees ek jeugfiksie soos SE Hinton se boeke. Haar eerste werk is The outsiders en dis ongelooflik. Maar ek dink die belangrikste om te onthou is dat tieners soos enige mense drome en ambisie het. Hulle wil iets hê, partykeer iets konkreet soos ‘n prys vir ‘n prestasie, partykeer iets groot soos volwassenheid. Die vraag is natuurlik of volwassenheid die moeite werd is om na te streef. Maar dis uit so ’n vraag dat ’n skrywer moontlik ’n storie kan maak. Ek moet ook noem dat ’n skrywer ver kom met ’n goeie redakteur. Aldré Lategan het aan die manuskrip geskaaf het en dit meer tienervriendelik gemaak. Sy ken jeugfiksie baie goed en het my handige raad gegee."

Op LitNet skryf Bibi Burger in haar resensie van Siobhán dat die skrywer gebruik maak van die universele formule van tienerboeke waar tieners weg van hulle ouers af (soos Siobhán, ’n graad 11-meisie wat in hierdie boek gedurende die tiendae-vakansie na ’n sirkusskool-kamp gaan) deur ’n tipe inisiasie gaan en so die eerste treë na hulle onafhanklikheid gee.

“Hierdie motief van ’n inisiasiereis beteken dat Siobhán van die sirkus nie soveel van Fouché se ander romans verskil as wat mens aanvanklik sou dink nie.

"Siobhán van die sirkus is veel meer positief as die res van Fouché se oeuvre en aan die een kant is dit verblydend dat Fouché nie, soos vele ander Afrikaanse jeugromanskrywers, probeer om so donker moontlik te gaan en te veel hamer op 'issues' nie. Ook Fouché se taalgebruik is onopgesmuk en probeer nie te hard nie (die haakplek van vele belowende jeugromans). (...)

"Aan die ander kant kan ’n ligte toon ook gesien word as patroniserend – asof die skrywer dink dat tienerlesers nie te veel ontstel moet word nie. Die roman word egter gered deur Fouché se kenmerkende dubbelsinnigheid – heelwat gebeure in die roman word nooit volledig verklaar nie en dit word aan die leser oorgelaat om daarvan te maak wat hy of sy wil. (...)

"Fouché gebruik die sirkusomgewing om op ’n subtiele manier kwessies rondom identiteit, geslagsrolle, seksualiteit en verhoudings te verken. Soos Siobhán oor haar narklere sê: 'As ’n mens vermom is, kan jy enigiets doen.' Wat Fouché se presiese boodskap rondom hierdie temas is, is nie duidelik nie. Ek beskou dit as ’n positiewe eienskap van die roman, omdat dit die werklikheid weerspieël. Volwassenes het nie noodwendig die antwoorde op hierdie kwessies nie, en dit is nie noodwendig by die volwasse kampleier, Klein-Piet, se lesse dat Siobhán die meeste leer nie, maar eerder by die goed waarmee hy self sukkel. Só probeer Fouché nie vanuit die posisie van volwasse skrywer antwoorde bied nie, maar beeld hy soos met sy ander romans op ’n genuanseerde manier karakters se soeke en reise uit en laat die interpretasiewerk aan die leser oor."

In Volksblad (18 Augustus 2014) sluit Anél Viktor haar resensie af: "Jaco Fouché se eerste jeugboek gee nie voor om enigiets meer te wees as ’n tienermeisie se twee weke lange soektog na haarself nie. Niks is glansryk of oordrewe aan dié coming of age-verhaal nie.

"Die karakters is dalk minder kleurvol as die verwagting wat die woord 'sirkus' in die titel skep, maar hulle is nogtans geloofwaardig en jy kry met ’n menslike storie te doen. Die het ’n diepte-gevoel, maar nie almal gaan rêrig vóél vir Siobhán nie. Die idee van ’n sirkusskool op ’n plaas is verfrissend."

Jaco se volgende boek, Somer, is weer ’n roman vir tieners. Jaco vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat sy belangstelling in literatuur vir die jeug weer opgevlam het toe hy met sy vrou, Lorraine, ’n onderwyser aan die Hoërskool Hermanus, getroud is: "Ek het ook van die voorgeskrewe boeke nadergetrek. Veral iets soos Krismis van Map Jacobs van Adam Small het ’n groot indruk op my gemaak. Ook het ek van my eie gunstelinge uit my kinderjare weer bekyk. En wat gewoonlik gebeur, is dat die lees van ’n goeie boek my lus maak om my eie een te probeer skryf.

"Skryf vir die jeug is anders in die sin dat ek meen ek eerliker skryf. Of miskien moet ek sê meer reguit. Daar is minder suggestie en woordspelings en liriese sinne en ’n mens ondergrawe nie dinge soos jy in volwassene-fiksie maak nie. Dis ’n terugkeer na ’n tyd toe ’n mens nie so sinies was nie."

Oor die karakters in Somer vertel hy aan Naomi Meyer dat die verteller ’n bruin matriekseun, Maison, van Hawston naby Hermanus, is wat dol is oor rugby, maar nie so erg oor die akademie is nie. "André is dieselfde, maar meer welaf en wit. Hulle tree aanvanklik in konflik met mekaar, maar word vriende wat saam die somer geniet. Albei ervaar frustrasie en hartseer in hulle gesinslewens en reik uit na ’n vriend. Dis iets wat ek van my eie jong jare onthou, dat ’n mens in ’n mate jou gesin verloën om jou vriende aan te hang. Vir my het dit soms skuldig en verward laat voel, want my vriende was ontsettend belangrik vir my en ek besef vandag ek het te veel van hulle verwag."

In Somer gee Jaco erkenning aan die kinders van die Hoërskool Hermanus. Hulle was vir hom ’n inspirasie nadat sy vrou aan hom vertel het van die vriendskap tussen ’n bruin en wit seun: "My swaer het ook eendag aan my gesê dat ek in Hermanus bly maar nooit daaroor skryf nie. Die kinders aan wie ek erkenning gee, het die episode in hoofstuk 13 beleef toe ’n toeris na hulle verwys as ’n 'mixed breed'. Die twee was baie ontsteld daaroor. Tersia Smit, ’n onderwyseres, het my daarvan vertel en dit het my getref op ’n wyse wat my skaam gemaak het. Ek bedoel, ’n mens ry verby Hawston en Mount Pleasant en wat jy gewoonlik dink, is dat dit swaar moet gaan hier en wat het jy met die Chris Rea-CD gemaak? Maar daar woon mense daar en wonderlike mense ook.

"Ek het met ander skoolkinders ook te doen gekry, soos eendag toe Lorraine hekdiens by die rugby doen saam met twee bruin kinders en ek vir hulle koeldrank bring en ons ’n bietjie gesels. En ek het al in die skoolbussie gery saam met kinders, en na ’n uur vergeet hulle van die oom wat net voor hom sit en uitstaar en te skaam is om iets te sê en dan begin die stories oor hulle lewens vertel word. Daar is baie sulke voorvalle, miskien op hulle eie te klein om oor te vertel, en tog tel hulle op tot ’n geheelindruk."

Op LitNet bespreek Dewald Koen Somer: "Fouché bespreek talle temas in die roman: emigrasie, godsdiens, seksualiteit, vriendskap, geestesgesondheid, armoede, misdaad, afwesige ouers, rassisme en stereotipering kom aan bod. Beide Maison en André se lewensverhale geniet aandag deur die loop van die roman en enkele raakpunte tussen hul onderskeie lewens word sodoende geïdentifiseer.

"Alhoewel die narratief op sigself interessant daar uitsien, is daar enkele aspekte wat my kwel. Maison en André se taalgebruik kom as ongeloofwaardig voor. As kritiese leser het die skrywer se volwasse stem te dikwels deurgeskemer en sodoende afbreuk gedoen aan die geloofwaardigheid van die tienerkarakters. Op bl 137 antwoord Maison André byvoorbeeld soos volg: 'Aag, hel. Oud en moeg en der dagen sat in die diens van die Here'. Dit is hoogs onwaarskynlik dat ’n tienerseun (wat homself as ’n swak akademiese presteerder beskryf) in 2018 so ’n Nederlandse aanhaling in ’n informele gesprek met ’n vriend sal gebruik. Op bl 34 sê André hy 'hoor [h]ulle het teenspoed gehad'. Alhoewel daar nie noodwendig van skrywers verwag word om streng by Standaardafrikaans te hou tydens die skryf van ’n jeugroman nie, is dié twee karakters se taalgebruik effens dik vir ’n daalder. (...)

"Die konsep waarmee Fouché gewerk het, het die potensiaal gehad om ’n opwindende jeugroman tot stand te bring. Die teks kon egter strenger geredigeer gewees het om die verhaal in sy geheel meer vaartbelyn te maak. Te veel temas word by die narratief betrek en die soms té formele taalgebruik doen afbreuk aan die hoofkarakters se geloofwaardigheid. Vergeleke met ander jeugromans wat onlangs verskyn het, haal Somer nie die paal nie."

In Die Huisgenoot (22 Maart 2018) was Elna van der Merwe meer positief oor Somer: "Dis ’n verhaal waarby hoërskoolleerders groot aanklank sal vind. Dit beskryf helder die tyd wanneer ’n mens nóg vis nóg vlees is, nie juis geld het nie, nie mooi weet wat om met jou toekoms te doen nie en geen anafhanklikheid het nie omdat jy nog aan jou ouers gebind is vir ’n dak oor jou kop. Gee die boekg erus present aan jou inwonende tienerseun wat in ’n liefde/haar-verhouding met jou is."

Jaco en Haydee Morgan-Hollander het gesels oor die skrywer Jack Kerouac en sy wou weet vanwaar sy fassinasie met Kerouac: "Toe ek in die weermag was, het ek begin ryloop en dit vir ’n paar jaar na diensplig nog gedoen, gewoonlik vir die uitstappie, maar soms omdat ek moes. En toe ek On The Road lees, het ek dadelik geweet hoekom Kerouac so graag geryloop het. Almal wat hom lees, is eintlik versot op hom. Sy boeke laat my dink aan daardie liedjie van Albert Hammond waarin hy sing: 'But I gave it up for music and the Free Electric Band.' Hy laat ’n mens glo jy kan van die gebaande weë afdwaal en nog ’n heenkome vind. Ek beny hom ook as skrywer sy werkywer. Of ek hét, tot ek uitgevind het hy was op Benzedrine of iets toe hy On the road in ’n rekord drie weke geskryf het. Baie skrywers het dit blykbaar al gebruik. Graham Greene ook. Dit was seker hulle weergawe van ’n tonikum in daardie jare." (LitNet)

In 2010 sê Jaco aan Willemien Brümmer: “Deesdae is ek seker minder gejaagd en ambisieus. Ek is ook deesdae daarvan bewus dat ek ’n B-lys-skrywer is, en dis piekfyn om nie eersterangs te wees nie. Ten minste is ek ’n skrywer, en dis wat ek wou wees. Ek is bly oor my lewe. Dis nie ’n slegte lewe nie.”

Naomi Meyer (LitNet) wou by Jaco weet hoe hy die stand van die Afrikaanse letterkunde sien as hy terugkyk. "As ek terugkyk, sien ek jare se ontdekking en leesgenot. Dit wil egter lyk of die laaste werklik noemenswaardige figure die Tagtigers is. Kyk maar wie vat die groot pryse nog steeds. Was hulle die laaste werklik geletterde generasie?"

En as hy vorentoe kyk? "Die landskap vorentoe lê besaai met handrekenaars en slimfone wat almal eenkant gegooi is ter wille van nuwer handrekenaars en slimmer fone. Ek voel bekommerd oor die toekoms van die boek en my eie vooruitsigte. Dit lyk of ’n mens draaiboeke sal moet begin skryf en jou stories as visuele materiaal probeer verkoop. Ek word aangeraai om speurverhale te skryf, maar ek het reeds twee: Die ryk van die rawe en Die avonture van Pieter Francken. Stories sal daar egter altyd wees, waarskynlik visueel en skouspelagtig, maar afgewater, met swaar steun op die literêre werke van ouds, soos die hedendaagse musiekbedryf met sy vlugtige deuntjies op die klassieke musiek met sy grootse simfonieë steun."

Publikasies:

Publikasie

Die ryk van die rawe

Publikasiedatum

1996

ISBN

1874901503 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1997

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Paartie by Jake’s

Publikasiedatum

1997

ISBN

1874901643 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die avonture van Pieter Francken

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042642 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee dae in Mei

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781415200339 (sb)

Uitgewer

Roggebaai: Umuzi

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ed van Inligtingstelsels: ’n kantoorwerkersroman

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799344585 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skrywersblok en ander verhale

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869192808 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Grysland-verblyf: ’n novelle

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780795703515 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verstevlei

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157797 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Derde prys in NB Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Siobhán van die sirkus

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167543 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Somer

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780798175340 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Vertalings deur Jaco Fouché:

’n Keur van artikels oor Jaco Fouché op die internet

Biografiese artikels oor Jaco Fouché op die internet

 ’n Keur van artikels deur Jaco Fouché op die internet

Bygewerk: 2019-06-20
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za

* Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Jaco Fouché (1967–) appeared first on LitNet.

Alexander Strachan (1955–)

$
0
0

Gebore en getoë

Alexander Strachan, of Zander soos sy vriende hom ken, is op 9 Junie 1955 in die distrik van Ladysmith in Natal gebore. Hy word groot op die beesplaas Monoughmore, wat ’n groot rol in sy kinderlewe speel. In ’n onderhoud met Corlia Fourie in Rooi Rose van 27 Mei 1998 vertel hy: “Dit is nie ’n mooi plaas nie. Dis ’n harde wêreld. [...] Die swaarmoedige, ou huis het klipmure gehad en jy kon die rysmiere daarin hoor ritsel. Die voordeur kon nie sluit nie en het na binne en na buite oopgemaak.”

Sy voorouers is van Skotse afkoms, maar hulle verafrikaans gou in Suid-Afrika. Sy oupagrootjie was bekend as oom Daantjie, wat ’n houtbeen gehad het en ’n slaghuis op Harrismith besit het. Selfs nadat hy blind geword het, het hy steeds die slaghuis bestuur en beeste aangekoop deur op beskrywings staat te maak.

Alexander is vernoem na sy oupa, Alexander Strachan, wat op 3 Oktober 1899 in Bloemfontein gebore is, agt dae voor die uitbreek van die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog). Sy oupa het tydens die oorlog in die Sannaspos-konsentrasiekamp beland, maar het hierdie ervaring oorleef en is op 78-jarige ouderdom oorlede.

Van Bloemfontein trek sy oupa, pa en neefs oos en beland so in die Collingspas-distrik, waar sy oupa die familieplaas Oude Hamelberg bekom deur huurlande met ’n span osse te bewerk. Later bekom hy ook die buurplaas deur die eerste motor in die kontrei vir die plaas te verruil. Alexander word groot op die beesplaas Monoughmore naby Ladysmith, waar hy saam met werkerskinders speel en vlot Zoeloe leer praat.

Alexander is die oudste van drie kinders. Hy het ’n broer en ’n suster, maar hy kan hulle nie so goed onthou nie. Sy pa het nie veel tyd gehad om met hom te gesels nie, want hy was die hele dag besig op die plaas. Sy ma, Bessie, was sy enigste werklike geselskap. Sy maats op die plaas was die werkers se kinders en hy leer dus Zoeloe praat "soos ’n boorling". Toe hy vyf was, het hy sy eerste windbuks present gekry en voëls begin jag. Een van die hoogtepunte en groot gebeurtenisse op die plaas was wanneer die jakkalsjagter op die plaas gekom het. “Die jakkalsjagter het my laat besef dat daar ’n ander, groter ruimte is,” vertel hy verder aan Corlia Fourie.

Toe hy skoolgaande ouderdom bereik, het sy ma hom die eerste jaar op die plaas geleer en daarna is hy dorpskool toe in Keatestraat op Ladysmith. Soggens het hy saam met die melklorrie ingery en smiddae wanneer hy terug was op die plaas, het hy heel eerste sy windbuks gegryp. “Ek het skool met ’n passie gehaat. Dit was vervelig en ek kan nie onthou dat iets lekker was nie. Dit het my elke keer ses maande geneem om ’n onderwyseres op te lei sodat sy kan verstaan ek is nie lus vir praat nie. En nes sy mooi regkom en nie meer dink ek is dom nie, is ek weer in ’n ander klas.”

Alexander vertel aan Anika Louw in Rooi Rose van 9 Augustus 1995 dat hy op skool jaar na jaar dieselfde opstel geskryf het. En hy het elke jaar presies dieselfde punt vir die opstel gekry - iets wat hy tot nou toe nie kan kleinkry nie. “Die onderwerp was ‘My stokperdjie’. En elke jaar het ek geskryf my stokperdjie is om met beeste en skape te boer. En elke jaar, van standerd 6 tot matriek, het ek 7 uit 10 vir die opstel gekry.”

Toe Zander 13 jaar oud was, het hulle die ou plaas verlaat en na ’n nuwe plaas met ’n moderne huis getrek. “Daar was damme en mielielande, maar dit kon nooit praat soos die ou plaas gepraat het nie,” sê hy aan Anika Louw.

In standerd 8 gaan hy na die Hoër Landbouskool Tweespruit waar hy sy matriek in 1972 maak.

As jong kind was hy ’n redelik onsosiale mens, maar later het hy dit ontgroei en op hoërskool selfs rugby gespeel. In matriek was hy dux-leerling, maar het geen begeerte gehad om hom in die akademie te vestig nie.

Alexander vertel (Volksblad, 15 April 2016) meer oor sy twee jaar aan die Hoër Landbouskool Tweespruit: "As ek aan Tweespruit terugdink, is daar verskeie dinge wat by my opkom. Tog staan sekeres uit. Een hiervan is natuurlik ontgroening. In daardie jare is dit openlik toegepas, met die owerhede deeglik bewus van wat aan die gang was.

"Boonop het dit ’n jaar lank geduur omdat jy ’n baas gekry het vir wie jy deur sy hele matriekjaar moes werk: Sy bed opmaak, die regte boeke in sy skooltas pak om voor die regte klaskamer in ’n netjiese ry te gaan neersit. Jy moes sy rugbytrui was, vir hom vrugte in die boord gaan steel, badwater intap as hy oor ’n naweek nie wil stort nie, en talle ander dinge vir hom doen. (...)

"Byname was natuurlik die ander ding wat Tweespruit uniek gemaak het. Elkeen het ’n bynaam gekry sodra hy by die skool aanmeld. Myne was Vlerk. Dit word deur die matrieks aan jou toegeken en vir die res van jou skoolloopbaan word jy op geen ander naam aangespreek nie.

"Dit word só by jou ingeprent dat jy jare later onwillekeurig sal omvlieg sou jy dié woord iewers hoor. Jou bynaam is gewoonlik bepaal deur die eerste gedagte wat deur jou naamgewer se kop flits sodra hy jou vir die eerste keer aanskou. Dikwels het jou naam gekom van die persoon waaraan jy hom herinner het, wat vóór jou op skool was. In so ’n geval was dit so bestem dat jy dié naam sou kry. (...)

"’n Ander ding wat ek onthou, is dat nie die onderwysers nie, maar die betrokke jaar se matriekklas eintlik die hele skool bestuur het. Hulle was verantwoordelik dat die 'orde', wat natuurlik nie vir hulle gegeld het nie, gehandhaaf word. Nadat die stiltetydklok saans gelui het, mog jy nie eens fluister in jou kamer nie. Behalwe natuurlik die matrieks wat kon jolyt hou en lawaai tot so laat hulle wou.

"Die lang treinrit skool toe sal my ook altyd bybly. Ek was van Natal af en dit was ’n hele dagreis skool toe. By Bethlehem het ’n hele gros Lanties gewoonlik saam opgeklim. As jy skiewie was, moes jy die trein teen die opdraandes help uitstoot. Hierdie gestoot het in die treingang plaasgevind. Daar was ’n blink staaf aan die binnekant van die gang teen die vensters. Die skiewies, almal wakkergemaak, het dan aan die staaf vasgegryp en kreunend en beurend 'Ben Wieletjies' (die trein) teen die opdraande 'uitgestoot'.

"Partykeer het die skoolbus ons op die stasie kom haal, ander kere het hy net nie opgedaag nie. Dan was ons op onsself aangewese. Dit was jou eie saak hoe jy by die skool uitkom. Dapper en stapper. Ons het die kilometers 03:00 met al ons bagasie deur die los sand te voet aangedurf.

"'Basies' in die weermag was 'ligte vrugte' nadat jy Tweespruit aan die lyf meegemaak het."

Om te skryf, was iets waarvan hy in sy wildste drome nooit aan gedink het nie. Hy was wel baie lief vir lees, veral Elmar Steyn se verhale wat in die Ou-Kaap afgespeel het. Hy het nooit gelees toe hy jonger was nie, omdat daar nie boeke in hulle huis was nie.

Verdere studie en werk

Na matriek verrig Alexander sy militêre diensplig as ’n recce en gaan daarna na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein waar hy hom inskryf vir die BA-graad met Afrikaans-Nederlands, Zoeloe en Suid-Sotho as hoofvakke. Hy behaal hierdie graad in 1977, sy honneursgraad in Bantoetale, ook aan die UOVS, in 1979 en so ook sy MA. Sy skripsie was getiteld “Karakterisering in JM Ngcobo se ‘Qhude Manikikiki’”. In 1988 verwerf hy sy DLitt aan die Universiteit van Pretoria met “‘Uthingo lwenkosazana’ van DBZ Ntuli: ’n narratologiese ondersoek”.

Hy word in 1978 aangestel as dosent aan die UOVS se Departement van Bantoetale – ’n pos wat hy vir sewe jaar beklee. In 1985 word hy senior lektor in Afrikatale by Unisa tot einde 1988. Hy gaan toer vir drie maande alleen deur Europa. Met sy terugkeer is hy lektor by die Universiteit van Vista aan die Oos-Rand tot Julie 1993. Vanaf 1994 is hy werksaam by die Universiteit van Zoeloeland se Departement Afrikaans en vanaf 1995 as senior lektor. Hy tree as professor af.

Aanvanklik was sy enigste roeping om boer te word, vertel hy aan Susan Coetzer in Rooi Rose van Maart 2001. Maar toe neem hy Afrikaans as byvak op Bloemfontein, ontmoet Etienne Leroux en word na ’n letterkundekonferensie by Koffiefontein genooi. “Ek het nie gedink ek het iets te sê nie, maar toe ontdek ek ek hét. Die naweek by Koffiefontein was soos ’n tuiskoms. Ek het begin skryf.”

Hy publiseer enkele joernalistieke stukke en ontvang die PICA-toekenning vir ’n artikel oor ’n herbesoek aan die Caprivi. In 2002 skryf hy ’n artikel in Insig oor die Suid-Afrikaanse militêre operasies in Angola, wat aan hom ’n Mondi-benoeming vir die beste artikel besorg. Hy hou hom ook besig met industriële teater wat hy deur middel van die inheemse tale aanbied en is ook betrokke by die aanbied van slypskole vir aspirantskrywers.

Hy was ’n aktiewe lid van die Afrikaanse Skrywersgilde tydens sy bestaansjare en was ook vir twee jaar voorsitter. Hy is ook lid van die Afrikatalevereniging van Suider-Afrika. Vanaf 1996 is hy voltyds skrywer.

Alexander begin in 1979 kortverhale skryf en publiseer enkeles in Tydskrif vir Letterkunde. Die verhaal “Huldeblyk”, wat later “Koebaai” sou word, vorm die basis waarop hy sy debuutbundel kortverhale bou wat in 1984 verskyn onder die titel ’n Wêreld sonder grense. Volksblad berig op 20 Augustus 1984 dat die geweld rondom oorlog nog nooit vantevore op so ’n genadelose en brutale wyse in die Afrikaanse letterkunde vertel is soos in ’n Wêreld sonder grense nie.

Hy vertel aan Volksblad: "Ek was op ’n landsdienskamp waar al die kampeerders gekla het oor die massa wat hulle moes dra en al wat klippie is van die grond verwyder het voordat hulle hul slaapsakke saans oopgegooi het. As soldaat het ek dikwels my eie liggaamsmassa kilometers ver moes dra en sou ek snags in ’n bos of struik met my 'kit' nog op my rug neersak en slaap. Toe besef ek ek het ’n storie om te vertel. En ek was moeg vir geweld.” Hy het drie jaar lank aan die bundel gewerk.

Die bundel word met die Eugène Marais-prys vir 1985 bekroon, asook met die FAK-prys vir ontspanningsleesstof vir 1985. Dit word voorgeskryf vir studente in hul derde jaar en vir honneurskursusse aan die meeste universiteite. Dit is in Engels en in Nederlands vertaal. Hy vertel aan Marguerite Robinson (Beeld, 8 Mei 1985): "Die sukses van die verhale kan toegeskryf word aan die feit dat grensliteratuur ’n nuwe ding is. Mense stel belang daarin. Ek het dit as ’n tema gekies omdat ek verslag wou doen oor ’n wêreld waarvan ek weet, ’n wêreld waarvan min mense weet.” Hy het sy diensplig in ’n spesiale eenheid van die weermag gedoen, wat dalk selfs vir die gewone dienspligtige geheimenisse inhou. Met hierdie bundel hef hy sowel stoflike as geestelike grense op.

’n Wêreld sonder grense is in 1987 verfilm met Frans Nel as regisseur. Die film, en dus ook die boek, word deur Marcel van Heerden as “anti-oorlog” bestempel – in so ’n mate dat die weermag niks met die film te doen wou gehad het nie, behalwe om aanwysings aan die draaiboek voor te stel wat toe nie aangebring is nie. Alexander het self die draaiboek geskryf, wat dit sy eerste ondervinding van die rolprentwêreld gemaak het. Scot Scott speel die rol van die verteller, wat ook die hoofkarakter in die boek is. Marcel van Heerden is Jock en ander bekendes sluit Brümilda van Rensburg, Danny Keogh en Klaas de Boer in.

In 2002 is ’n Wêreld sonder grense­ deur Rolf Wolfswinkel in Nederlands vertaal. In hierdie vertaling is die oorspronklike Afrikaanse teks op liggrys papier en die vertaling op wit papier bladsy vir bladsy langs mekaar gedruk. Dit is deur die Nederlandse uitgewer In de Knipscheer gepubliseer.

Wolfswinkel het gesê hulle kon die boek so uitgee omdat die oorspronklike bundel nie baie dik was nie. Daar word met dié poging probeer om beide Nederlands en Afrikaans meer toeganklik vir die sprekers en lesers van die twee tale te maak.

Wolfswinkel sê aan Francois Smith (Die Burger, 2 September 2002): "Daar bestaan nie so 'n soort teks in Nederlands nie. Daar is ooreenkomste met WF Hermans, maar Strachan gaan verder as Hermans. Dit is nie ’n moeilike teks nie, maar die werklikheid agter Strachan se woorde is so onbegrypbaar."

Wolfswinkel, 'n dosent aan die Universiteit van Kaapstad se Departement Afrikaans en Neerlandistiek, wou so getrou moontlik aan Strachan se "eienaardige wêreld" bly, maar moes tog ter wille van duidelikheid van die weermagtaal verander. "Black is beautiful" het "blanco" geword, en "gatvol" het hy met die ewe enigmatiese "bale" vertaal, skryf Smith.

Tydens die Wits-beraad in 1985 praat Alexander oor sy en werke en dié van ander van sy tydgenote, soos Etienne van Heerden, Louis Krüger en Koos Prinsloo. Hy noem dit tydsdokumente. “Die jong Afrikaanse skrywer skryf nie betrokke in die jare tagtig nie, [...] want vandag se skrywers se situasie het drasties verander. Hy beleef sy wêreld aan sy lyf en die beste resente werke het die grens as tema. Ons skryf nie meer oor nie, maar vanuit ’n situasie. Afrika was destyds die enigste realiteit."

Op ’n vraag of die term grensliteratuur nie verarmend van aard is nie, antwoord hy: "Grense hoef nie net fisieke grense te wees nie, maar ook emosionele grense. Dit is in elk geval vir my blote dokumentering."

Alexander se eerste roman, Die jakkalsjagter, verskyn in 1990 en selfs voor die publikasie word dit bekroon met die De Kat/Antenne-romanwedstryd se eerste prys. Hy erken teenoor Adèle Hamblin: "Elkeen van my skeppinge is vir my ’n dramatiese belewenis is: ek werk en werk daaraan, verander iets hier, iets daar, rond dit honderd keer af ... En uiteindelik, ’n boek."

Hamblin vertel in Rapport van 9 Desember 1990: "Alexander stel homself herkenbaar bloot in Die jakkalsjagter. Die eensaamheid waarmee hy altyd geworstel het, het hy nou vir homself in Die jakkalsjagter wat eers Toe ek eensaam was sou heet, uitgemaak."

Hierop reageer hy: “Ek hoef nie meer mense se geselskap te hê om my gelukkig te maak nie. In die ou dae kon ek nie alleen wees nie. Ek het mense gemis en die oomblik dat hulle by my huis aankom, wou ek weer hê hulle moet loop.”

In Die Burger van 13 Desember 1990 beskryf Gunther Pakendorf Die jakkalsjagter as ’n sterk en boeiende roman. “As verwerking van die manlike psige in ’n patriargale bestel en die geweld, verbrokkeling en ongevoeligheid wat daaruit voortspruit, is dit sonder twyfel ’n belangrike toevoeging tot die eietydse Afrikaanse prosa.” Volgens hom toon dit heelwat ooreenkomste met ’n Wêreld sonder grense.

In sy resensie in Die Burger van 29 Oktober 1990 skryf JC Kannemeyer: "Dit is ’n roman wat groot eise stel, maar wat die leser in sy speurende verkenning ryklik en opwindend sal beloon. Daarby is dit bloot as verslag van ’n hele lewe ’n fassinerende stuk leesstof."

Met sy volgende roman, Die werfbobbejaan, wat in 1994 verskyn, verwerf Alexander die WA Hofmeyr-prys vir 1995 en ook die tweede prys in die De Kat/Sanlam Romanwedstryd in 1993. In ’n onderhoud met Rachelle Greeff in De Kat van Junie 1994 sê Alexander dat hy na hierdie roman vir eers klaar is met die metafiksionele ding. “My drie boeke vorm ’n trilogie: baie van die drade wat al in ’n Wêreld sonder grense begin het, word in Werfbobbejaan saamgevat. Die mite van die swerwer is vir eers vir my verby.”

Volgens Rachelle het sy die boek baie boeiend gevind, veral omdat die vroulike hoofkarakter, Khera, verbeeld word deur een van die skrywers wat beskou kan word as die mees macho in Afrikaans. En ook omdat Alexander daarin geslaag het om ’n gedeelte van Zoeloeland op ’n meesterlike wyse uit te beeld. Die Zoeloe-volksverhaal vorm ook ’n onlosmaaklike deel van die res van die teks. “Geen ander Afrikaanse skrywer het tot dusver Afrika se folklore so behendig in die Westerse konstruk van die Afrikaanse literêre tradisie vervleg nie.”

LS Venter skryf in Beeld van 19 September 1994: "Strachan is hier weer meester van die dramatiese verhaal, die skepper sonder weerga van ’n gelaaide, dreigende atmosfeer."

JP Smuts lewer die commendatio tydens die oorhandiging van die WA Hofmeyr-prys aan Alexander. Hy sê onder andere: "Die werfbobbejaan beïndruk deur die hegte konstruksie daarvan, die groot sorg waarmee dit geskryf en afgewerk is en die deeglike vakmanskap van die skrywer. Keer op keer in hierdie teks wys Strachan dat hy ’n verfynde woordgebruiker en ’n uitmuntende verteller en beskrywer is. Die beeld wat hy van die Zululandse subtropiese wêreld opbou, is indrukwekkend, en die sensitiewe wisselwerking tussen personasies word dikwels knap gehanteer en toon die waarmerk van ’n werklike goeie skrywer."

Alexander se volgende boek was veronderstel om ’n roman te wees, “maar dit wou nie werk nie,” vertel hy aan Lerinda Steyn. “Eers toe ek besluit om eerder ’n bundel aaneengeskakelde kortverhale daarvan te maak, het die teks in posisie geval. Ses weke later was die manuskrip klaar.” Die titel van die bundel is Agter die suikergordyn en hierin word ’n "paradysagtige suikerrietwêreld uitgebeeld waar die mense deur pure verveling tot seksuele dekadensie gedryf word".

LS Venter (Beeld, 16 Februarie 1998) skryf: "Die konklusie van die bundel is dat daar agter skanse van onverstoorbaarheid en onaangeraaktheid geskryf is. Dit is vir my ’n teleurstellende bundel, maar dit moet dalk gelees word as ’n verposing, ’n moment van konsolidering."

Vir JC Kannemeyer is Agter die suikergordyn ’n "oper teks wat vir baie lesers meer toeganklik sal wees. Daarby beïndruk Strachan met sy raak woordkeuse en die natuurlike prosa wat hy skryf. Dit is ’n enigsins ander Strachan wat hier aan die woord kom."

Tydens die KKNK in 2000 word Alexander se drama Hartebees opgevoer met Perle van Schalkwyk in die hoofrol as die ontkleedansers Gigi (Perle is ook ’n ontkleedanseres van beroep). Die stuk het uiteenlopende resensies gekry en in 2003 word dit deur Protea Boekhuis gepubliseer as Kloof. Daar is egter heelwat aan die teks verander en nie net is die aantal karakters verminder nie, maar ook van hulle name is verander. Eben Cruywagen (Die Burger, 29 Desember 2003) beskryf dit as ’n meesleurende teks wat teaterliefhebbers ’n teaterervaring soos min behoort te besorg.

Oor Alexander se eerste gepubliseerde drama skryf Johan Coetser in Beeld van 15 Desember 2003: "Die handeling speel op 'n jagplaas af waar ’n jonggetroude regter (Jurgens, 58) en sy aantreklike vrou, Riana (31), gaste van die eienaar Emma, en haar man, Henning, is. Sake begin verkeerd loop wanneer die karakter Bullet vir Riana as 'n ontkleedanseres herken en sy later voor hom en Henning 'n vertoning lewer.

"Teen dié agtergrond vertoon die 'jag'-motief twee variasies. Daar is eerstens Jurgens se jag van ’n rooihartbees. Die tweede hou met die verwerkliking van die metafoor van die man as 'jagter' van vroue verband, en met die dekonstruksie van manlike, chauvinistiese mag. Hierdie dramateks kan gevolglik ook teen ’n postkoloniale agtergrond gelees word. In albei gevalle bied Riana se optrede sleutels vir interpretasie.

"Benewens die seksuele konnotasies wat toeskouers aan die bokhorings en gewere kan heg, blyk dit uit die dialoog dat Jurgens seksueel impotent en ’n voyeur is wat vroeër Riana se ontkleevertonings gereeld besoek het. Uit die situasie bevry Riana haar simbolies wanneer sy die horings van Jurgens se trofeebok in die slottoneel stukkend skiet. Inderdaad keer sy die situasie om deur Jurgens as ’n onetiese en immorele karakter te ontbloot. Nie verniet nie sê sy: 'Onthou, ék is nooit kaal nie. My werk is om ander kaal te maak.'

"Onder meer die geroep van jakkalse lê in die byklanke ’n ruimtelike verband met die kloof as verlore paradys en intertekstueel met die dramaturg se prosawerke. Teen dié agtergrond groei veral Jurgens en Riana tot ’n gekorrupteerde Adam en Eva, en Bullet tot die slang. Daarby sluit ’n aantal verdubbelings aan.

"In sommige gevalle dui karaktername die verdubbeling van personasies en hul agtergronde aan, soos met Riana/Ria Fyndraai of met Emma/Emmarentia. In ander gevalle verdubbel karakterpare (Jurgens/Riana, Henning/Emma en Bullet/Emma). In ’n derde vorm hunker karakters na ’n tyd en plek waar hulle vroeër gelukkig was. Vir Riana is dit haar vorige bestaan as ontkleedanseres en vir Jurgens sy trofeekamer met die dooie dierekoppe. (...)

"Die gebruik van stroboskopiese beligting, wind en tromme verhoog die dramatiese van die oomblik, simbolies ondersteun deur 'n dubbele algehele verdonkering van die verhoog.

"Kloof is ’n teks wat in gedrukte vorm en vanweë postmodernistiese trekke die potensiële gehoor nooi om verby die sensasie te lees wat die eerste opvoerings – op die KKNK in 2000 onder die titel Hartebees – gekenmerk het. Dit is ’n grondige herskrywing van Hartebees. Die regisseur en akteurs se grootste uitdaging sal wees om van Jurgens en Riana oortuigende verhoogpersonasies te maak. As dramaturg kon Bartho Smit dit doen deur ’n oënskynlike mal keiser kaal en in sy onderklere voor ’n juigende volk en huilende hofnar in die straat te laat afloop."

Alexander was ook deel van SABC2 se projek Vierspel 2, en sy riller Sjampanje vir Vrydagaand is in April 1996 gebeeldsend met André Jacobs en Michelle Botes in die hoofrolle. Antoinette Wilkinson was die regisseur.

Alexander is gelukkig: wanneer hy moeg raak vir mense het hy altyd sy plase waarnatoe hy kan wegloop. Eers was dit Moyeni (“plek van die wind”) in Ladysmith se distrik en later Isomphemba (Zoeloe vir “jakkalsoog”) naby Johannesburg in Heidelberg se geweste. Tans woon hy in Harrismith nadat hy en sy broer Johannes sy oupa se familieplaas teruggekoop het. Hier boer hy met vleisbeeste en is hy besig om die murasies skoon te maak en te herstel.

Hy bieg teenoor Johann Lodewyk Marais op LitNet dat die eiesoortige sandboustyl van Harrismith en omgewing vir hom ’n groot bekoring inhou. “As ek op die plaas tussen die sandsteenkoppe rondry, voel dit dat tyd hier gaan stilstaan het en die verlede en hede ineenvloei. Jy kry die gevoel dat dit is soos dit eeue was. Niks het hier verander nie. [...] [D]ie plaas inspireer my. Elke boerdery, hoe klein ook al, het sy eie bekommernisse en jy probeer maar gedurig jou skades beperk. My aandag is dus nie altyd by die skryfwerk nie; dis ’n luukse wat behoort aan skrywers wat voltyds voor die rekenaar kan sit. Maar ek kry stof uit elke dag se gebeure en as ’n skrywer met min verbeelding, put ek hieruit. So iewers in my skryfwerk sal Oude Hamelberg ook deurskemer.”

Alhoewel hy as kind voëltjies geskiet het, laat hy nie jag op sy plaas toe nie. Die wild was nog altyd op sy plase om in nette gevang te word en aan ander wildplase te verkoop.

Hy praat nie graag oor die feit dat hy as vrouejagter bekendstaan nie, al vra die meeste onderhoudvoerders hom daaroor uit. Hy sê hy is nie; gewis nie. “Jare gelede was ek byna drie jaar lank getroud. Maar dis lank terug; ek kan nie meer onthou nie.” Aan Lerinda Steyn erken hy dat hy liewer oor die ander liefdes in sy lewe gesels, soos diepseehengel, KwaZulu-Natal en sy diere, veral sy windhonde.

Alexander weet hy het ’n image. Mense sien hom as ons eie Hemingway. Baie mense dink ook dat hy as skrywer Etienne Leroux probeer navolg met die dra van net swart en wit klere. Hieroor sê hy aan Rachelle Greeff op LitNet dat daar wel sekere fasette van sy lewe kan wees wat met Hemingway s'n vergelyk kan word, soos die soldaat, die jagter en die skrywer van gestroopte prosa. Dan dra hy ook net swart en wit klere nadat hy in 1988, toe hy aan depressie gely het, nie kleure van mekaar kon onderskei nie. Hy erken teenoor Greeff: "’n Deel van my is ’n totale alleenloper. Mens is nie net een mens nie.”

In 1994 vertel hy aan Rachelle Greeff dat sy skryftyd vroeg soggens is. Hy staan sesuur op en gaan sit dan tot so twaalfuur en werk. Afwisseling is die belangrikste in ’n dag van skryf. “Hier na twaalf moet ek eers iets anders doen, iets fisieks. Soos hardloop. Dan kom daar ’n afstand sodat ek ’n oordeel kan vel. Nou eers kan ek weer vir so twee ure kom sit. [...] Jy moet jouself merendeels dwing om te gaan sit en skryf, dan kom jy in die stemming. Ek sal enige plek kan skryf. Dit raak luuks as jy sê jy het die see in die agtergrond nodig, of spesifieke musiek. Sommige mense oorbeklemtoon dit.”

In 2010 verskyn Zander se volgende roman, onder die titel Dwaalpoort. Oor die lang letterkundige stilswye tussen Kloof en Dwaalpoort vertel hy dat hy vyf jaar aan die roman gewerk het.

Die verhaal speel af op Dwaalpoort, die familieplaas wat ’n paradys vir jagters is en iewers op die grens tussen KwaZulu-Natal en die Vrystaat geleë is. In By van 25 September 2010 vertel Willemien Brümmer dat die plaas die verlede van Suid-Afrika verteenwoordig. "Die plaas is ook ’n mitiese ruimte, met sy wit hartbees, Mhlope, hoeder van reg en geregtigheid.

"Wanneer ’n gesiene regter, Jurgens, en sy jong vrou, Anne, na die plaas kom om ’n rooihartebees te skiet, word die plaas, sy inwoners en sy geskiedenis gedekonstrueer. (...) Bekende Strachan-motiewe maak weer hul opwagting: karakters wat vanuit sy hele oeuvre met mekaar praat, die jagter wat ook prooi is, die ontluistering van manlike chauvinistiese mag. Hier gaan die bowenal oor die ondergang van ’n bestaande orde. Die teks word ’n grieselrig-erotiese dodedans waarin die karakters op ’n onafwendbare apokalips afstuur."

Die drama Kloof het gelei tot die storie van Dwaalpoort, vertel hy aan Willemien Brümmer. "Ek was ontevrede met die drama as medium. Daar's te veel mense betrokke. Dis die regisseur, die akteurs, die klankman, die saal ... dis later nie jou teks nie. ’n Romanskrywer of ’n prosakrywer is altyd ’n individualis. Die roman is egter nie ’n verwerking van vorige tekste nie.

"Die roman is heeltemal iets anders. Die beste om dit mee te vergelyk is PG du Plessis se Feast of the uninvited wat Katinka Heyns verfilm het, en toe gaan skryf hy die roman. Syne is baie nader aan mekaar as myne, maar hy beskou dit as twee onafhanklike entiteite wat f*kk*l met mekaar te doen het."

Dwaalpoort is heelwat langer as sy vorige twee romans, Die jakkalsjagter en Die werfbobbejaan. Hy verduidelik aan Brümmer: "Ek het gevoel ek skuld dit vir myself om te bewys ek kan ’n langer roman skryf. In ’n mate het ek gevoel ek het darem ’n paar lesers. Selfs Alexander Strachan het ’n paar lesers; ek het hulle iets geskuld."

Alexander het teenoor Brümmer gesê dat hy dink die boek is "f*kk*n briljant" en sy beste werk tot op hede. "Dis ambisieuser en meer geskakeerd as Die jakkalsjagter en Die werfbobbejaan saam."

Op ’n vraag van Brümmer of die roman doelbewus polities was, antwoord hy: "As jy terugkyk daarna, ja, maar ek het nie doelbewus probeer polities of betrokke of avant garde skryf nie. Ek het ’n storie vertel, maar ek kan daai element nie negeer nie. Dit gaan oor plaasonteiening, oor grondhervorming, oordrag van eienaarskap, klaarmaak van ’n bestel. Mine Own (die township oorkant die distrikspad) neem die plaas oor. Mine Own is die toekoms, Dwaalpoort is die verlede.

"Dis ’n aktuele boek, maar ’n skrywer moet nooit maak asof dit die antwoord of die oplossing is nie. Op die ou einde is dit ’n postmodernistiese plaasroman. Dit is ’n apokaliptiese roman oor hoe mense op eindtye reageer."

Brümmer het ook vir Strachan gepols oor die muilbandwetgewing wat die ANC wil inbring: "Dit kan baie kreatiwiteit ontlont, want dan is die skrywers weer gevestig teenoor iets. Dan begin die skrywers as ’n groep skryf soos die Sestigers of in ’n mindere mate die Tagtigers wat nie regtig ’n groep of ’n eenheid van protes gevorm het soos die Sestigers nie. Maar as die regering dit te ver dryf en aanhou ernstig wees met hulle k*k, gaan hulle k*k van die skrywers kry.”

Net soos met sy ander boeke is die volksverhaal van die Zoeloe ook in Dwaalpoort ’n integrale deel van die verhaal, maar hier was hy self die skepper van die mite: "Ek wou nie die folklore gaan herhaal wat ander mense klaar vertel het nie. Op ’n manier is ek ook die skepper van folklore. Ek het die hartebees gekies want niemand vind hom romanties nie. Ek hou van die underdog. Baie skrywers gebruik folklore, maar dan skryf hulle net die storie oor, soos André P Brink in Bidsprinkaan, wat ek beskou as sy beste boek. En Duiwelskloof, wat my gunstelingboek is. Maar daar het André die fout gemaak. Hy kon net sowel sy eie folklore geskep het en aanvertel het. Hou aan vertel, las by, lieg saam.”

Cilliers van den Berg (Volksblad, 4 Desember 2010) skryf oor Dwaalpoort: "Tipiese kenmerke uit Strachan se oeuvre is ook duidelik in die teks aanwesig waarvan die ooglopendste sekerlik die onderbou van die sterk manlike diskoers is: die jagmotief, die personasie van die oudsoldaat, die relasie tussen man en vrou. Op sy beurt kry die diskoers bykans ’n mitiese betekenis uit eie reg binne Strachan se oeuvre en die vraag is of dit hier nog oortuigend, of nie dalk tog soms enigsins geforseerd, die leser aangebied word nie. Aan die ander kant is van die jagtonele, veral die beskrywings van die dood van die bokke, werklik indrukwekkend. As roman kom die teks, veral weens die verskillende aspekte wat betrek word, vergestalt in die verskillende ruimtes wat hierbo aangedui is, tog enigsins onaf voor. Want nie net word tematies in veelvoud gewerk nie, ook die narratologiese strategie van afwisselende ek-vertellers wat Strachan gebruik, benodig ’n baie duidelike, integrerende afwerking wat verder as net die styl-kosmetiese gaan.

"Steeds is Dwaalpoort ’n beduidende roman en veral ’n sterk bydrae tot die genre van die plaasroman, wat so ’n belangrike rol in die Afrikaanse letterkunde speel. Dus word die teks ook ’n literêre ruimte waar op post-modernistiese wyse in gesprek getree kan word met hierdie tradisie in Afrikaans. Dit is waarskynlik dan ook die intrigerendste aspek van Strachan se roman."

Louise Viljoen het Dwaalpoort in Die Burger van 15 November 2010 bespreek: "Die slot is rokerig en apoka­lipties. Veldbrande kruip oor die plaas en die finale konfrontasie ­tussen man en dier vind plaas in ’n afgebrande stuk veld met ’n ­­spesi­fieke groepie omstanders wat ­toekyk. Die laaste hoofstuk van die ­roman word, soos die eerste, vertel uit die gesigspunt van die hartbeesram Mhlope wat die ­vernietiging van Dwaalpoort ­bekyk uit ’n bykans bo-tydelike perspektief.

"In ’n sekere sin is die slot van die roman ’n herhaling van wat met die plaas gebeur het in die Anglo-Boere­oorlog (ABO), sodat dit ­duidelik word waarom die verhaal van ­Rentia se voorouer Henriëtte uit die ABO ingeweef word.

"Dit gaan dus in hierdie roman oor universele kwessies (die ­dier­likheid van die mens, die menslikheid van die dier, arge­tipiese manlikhede en vroulik­hede, seksualiteit, oorlewings­vermoë en sterflikheid) wat binne ’n aktuele ­­kon­teks geplaas word. Deel daarvan is vraagstukke soos gekommersialiseerde jag­togte, grond­hervorming, die oorwoekering van landelike ­ge­biede deur dorps­ont­wikke­lings en die vernietiging van ’n ouer ­bestel.

"Deur die dominante rol wat die hartbees Mhlope in die slot speel, suggereer die roman dat dié ver­anderinge deel is van ’n onvermydelike natuurkrag wat ­onbewoë sy gang gaan terwyl ­geslagte uitsterf en politieke ­stelsels mekaar vervang.

"Strachan se vakmanskap is ­duide­lik. Hy is behendig met die skep van ’n web van kruisver­wysings in die roman en die lê van leidrade wat deur die leser ­­ont­rafel kan word. Die simboliek word meestal subtiel gehanteer en is slegs in enkele gevalle oordrewe.

"Die prosa is hier minder ­gestroop as vantevore. Karakters soos ­Bullet en Anne word lewendig herskep deur die spreektaal van hul eie­ ­vertellings. Die beskrywings van die jag- en vegtonele is vol ­besonderhede soos in ou jagver­hale; dié van die sekstonele suggestie­ryk en ­poëties. In die ­geheel beskou is die roman toegankliker as sy ­vorige werk waarin ook oor die skryfproses ­besin is.

"Lesers wat Strachan se werk ken en volg, sal dit met ’n gevoel van her­kenning eerder as verrassing lees. Diegene wat die eerste keer met sy werk kennis maak, sal die genot hê om ’n goedgemaakte en ­onderhoudende roman met ­verskil­lende betekenislae te lees."

Dwaalpoort is in 2011 met die WA Hofmeyr-prys bekroon en was ook die bronswenner van die Sanlam Groot Roman-wedstryd in 2010.

Willemien Brümmer het ook in haar onderhoud met hom die onderwerp van Bullet, ’n macho oudsoldaat in Dwaalpoort, aangeraak. Bullet is soos so baie van sy vorige karakters ’n swerwer en wildvanger. Hieroor sê Alexander: "Ek het altyd hierdie macho-karakter gehad in al my werke. Dis nie vir my ’n issue om ’n macho-werk te skryf nie. Dit was in ’n stadium mode as jy ’n baie slim manlike man is om in ’n klein Beetle rond te ry en ’n oorringetjie te dra. Ek het nooit daai k*k in my lewe gehad nie. Goddank nie, ek ís die jakkalsjagter. Daai Bullet-karakter se manlikheid baseer ek waarskynlik op hoe ek was in my lewe. Ek kan hom nie meer nastreef nie. Hy’t my ontgroei, hy’t meer as ek geword. Hy’s groter as ek, ek’s kleiner as hy.

“’n Mens word mak gemaak deur die ouderdom. Jy kan nie meer dinge doen wat jy tóé kon doen nie. Omdat ek daai Bullet-karakter was, het ek as weermagsoldaat my eie gewig gedra in operasies. Ek moes albei my heupe vervang as gevolg van daai kit; dit was te f*kk*n swaar – niemand kon dit dra nie. As jy 36 is en jy lyk pragtig en jy moet daai kit uittrek, dan knak die liggaam, maar die gees gaan aan. Maar ek droom glad nie meer daaroor om dit te wees nie, want ek wás dit. Partykeer is ek selfs verleë daaroor.”

In 2015 verskyn Strachan se volgende roman, Brandwaterkom. In hierdie roman skuif die Anglo-Boereoorlog en die grensoorlog in Angola oor mekaar.

Strachan vertel vir Willem de Vries (Die Burger, 3 Augustus 2015) wat vir hom die belangrikste in hierdie verhaal is: "Voorop in Brandwaterkom staan die kwessie van verraad," sê Strachan. "En dan praat ek van verraad op meer as een vlak: die werkplek, die sakewêreld en die huwelik. Niks onder die son is nuut nie. Die struwelinge en kwessies van meer as ’n eeu gelede kom vandag nog in ons lewens voor. Minderhede teenoor meerderhede, vrou teenoor man, man teenoor man, magsbeheptheid, die rassekwessie, die met mag wat nie voor die ander wil swig nie, ontrouheid, ensovoorts."

Oor die naas mekaar stel van die Grensoorlog en die ABO sê Strachan aan De Vries dat dit nogal ’n groot uitdaging vir hom was. Hy was nie bewus van ander werke waarin dit al gedoen is nie. "Dit het baie konsentrasie en herskryf geverg om die twee temas naatloos oor mekaar te laat skuif. In welke mate ek dit reggekry het, sal die leser self oor moet oordeel."

Willem de Vries maak die stelling dat karakters "nomades" is wat uit die een boek na ’n volgende een beweeg. Hy beweer ook dat "elke boek deel van en ander aspekte van ’n langer verhaal belig". Hy sou dus weet hoe belangrik feite vir die verhaal was.

"Vir sommige skrywers is karakters nomadies, vir ander nie," is Alexander se antwoord op hierdie stelling. "Lesers hou nogal daarvan om ’n bekende figuur in ’n volgende boek raak te lees. Daar ontstaan dan dadelik ’n bepaalde verwagtingshorison van só ’n figuur en die boek word saamgelees met ander verhale van die skrywer. ’n Mens kan die leser natuurlik ook vervreem van ’n karakter deur hom/haar anders aan te bied as wat die leser verwag het.

"’n Terugkerende karakter kan ’n tema of simbool word. Soos Bullet in my werk wat vir baie lesers die ongeslypte kant van die skrywer verteenwoordig. Sommige lesers identifiseer met só ’n karakter. Die skrywer moet daarop bedag wees om die leser nie te veel van een karakter te voer nie, want dan kan verveling intree."

Brandwaterkom het in 2015 weggestap met die derde prys in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Die beoordelaars (Kerneels Breytenbach, Michiel Heyns en Heilna du Plooy) het in hulle commendatio geskryf dat hierdie roman ’n getuigskrif is van deeglike en uitgebreide navorsing na die Boereverraaiers of die Joiners, nog altyd ’n boeiende aspek van die Boereoorlog.

"Dit is ook ’n ondersoek na die ontwykende aard van die verlede, en van die motiverings rondom verraad. Die skryfwerk is besonder oortuigend danksy die moeitelose manier waarop historiese feite en die fisiese konteks van die verhaal geïntegreer is. Op ’n tegniese vlak toon die vertelling die stempel van ’n gesoute outeur in die spel van kontraste en ooreenkomste en die wisselende vertelritme wat die twee historiese tydvakke in die roman van mekaar help onderskei. Die beskaafde Britse sfeer waarin baie Vrystaatse professionele lui hulle voor, tydens en ná die ABO ondervind het, word knap vasgevang.

"Brandwaterkom is sowel bloedstollende oorlogsverhaal as diepsnydende ondersoek na die verraderlike manier waarop verhale met ons op loop gaan." (LitNet)

Brandwaterkom was ook die wenner van die kykNET-Rapport-fiksieprys in 2016. Nadat die prys aan hom toegeken is, het Alexander aan Rapport (25 September 2016) vertel dat hy eers oor ’n onbekende gebied (vir hom) soos die Karoo wou skryf, maar dan sou hy vir ’n ruk daar moes gaan woon om die "gees van die plek" raak te vat. Hy het dus nader aan die huis gekyk en dit was toe dat hy op Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat naby hom besluit het. "Ek sou dit gereeld kon besoek en beleef. Ek het ook nog nie daardie deel van die ABO-geskiedenis regtig geken nie en was dus heel verras toe ek Fanie Vilonel tussen die ou geskrifte en mondelinge oorlewering raakloop. Hy het toe ’n baie interessante karakter geword om mee te werk (teen die agtergrond van Marthinus Prinsloo se oorgawe), juis omdat hy as verraaier eintlik uit die geskiedenis geweer en vir die openbare oog weggesteek is."

Oor die skryfproses verduidelik Alexander aan Rapport dat hy ’n jaar lank basies net navorsing gedoen het deur te lees en inligting te versamel. En al is die verloop van die ABO in sy boek redelik akkuraat uitgebeeld, het hy met die uitbeelding van sy karakters sy verbeelding gebruik om hulle meer boeiend en interessant weer te gee. Selfs nadat die navorsing klaar gedoen was, het dit hom ’n verdere twee jaar geneem om die manuskrip te voltooi. "Soos altyd was dit maar ’n proses van herskryf en skaaf om ’n unieke teks te probeer lewer met sy eie eienskappe en aanslag."

In die commendatio vir die toekenning van die kykNET-Rapportprys vir 2016 was die beoordelaars (uit monde van Frederik de Jager) dit eens dat Brandwaterkom ’n hoogtepunt in Alexander Strachan se oeuvre is. Hy bring in hierdie roman nie net die ABO en Grensoorlog saam in een verband nie, "maar bring ook oorlogstemas en die strukturele eksperiment van sy hele oeuvre tot ’n nuwe verdieping.

"Een van die dinge wat Strachan onderskei, is hoe hy sy medium – die roman – vervorm tot geskikte draer van wat hy wil sê. Hy gebruik een verteller uit die werklike geskiedenis saam met een wat suiwer fiktief is en nog een (of dalk twee) wat op geheimsinnige wyse in- en uitmekaar skuif. Hy bring ’n verteller (een met ’n geskrewe teks in sy sak) uit sy vorige roman by hierdie roman in – een wat ook met biografiese elemente van Strachan self oorvleuel.

"Hy laat ’n historiese persoon op ’n fiktiewe persoon influister oor haar werk oor ’n ander historiese persoon. Die wedersydse inspeel op mekaar van vertellers en verteldes gebeur dus op oormekaarliggende vlakke in historiese tyd.

"En wanneer dit gebeur in ’n konteks van verraad, wanneer vertellers beheer oor hul karakters verloor, en wanneer historiese relaas onbewustelik oorgaan in fiksie, staan geskiedskrywing self in nuwe lig gekaats en vra ons die vraag: Wat is geskiedenis?

"Vir die betowering van die raaiselagtige wat hy met soveel presisie, integriteit en gravitas uitgeskryf het, is hierdie skrywer vele male bekroon. Die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa ... dit alles maak van Strachan een van ons skerpste en subtielste skrywers en een wat, soos hier, ’n deksels vernuftig skrywer is. Een wat in elke opsig verdien om bekroon te word met die kykNET-Rapportprys vir 2016."

In Rapport van 28 Junie 2015 is Joan Hambidge baie beïndruk met Brandwaterkom. Sy beskou Strachan as ’n "fyn stilis en vernuftige skrywer". "Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.

"Min skrywers het al oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar 'slow violence' ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van generaal Mannetjie Mentz? op.

"Die ABO en die Grensoorlog is die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van magiese realisme tydens ’n besoek aan Dwaalpoort. (...)

"Die ABO-wêreld en die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk tapisserie. Louis Botha, pres Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé. (...)

"Die reuk van die oorlog word konkreet beskryf. Redvers Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel, biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare karakter.

"Die oorlogspanning word nou verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende subteks. En die skrywer skryf op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot liefde.

"Daar is momente wat ’n mens net nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in die kol.

"Die roman bevat ’n uitgebreide bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in die dorp. Hoe mense se rolle hul lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die tragiese nadraai daarvan.

"Die troebel gemoed van Vilonel wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk ...

"Dit is in ’n gestroopte, toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is natuurlik ook hier met ’n verwysing na 'The jacket'. Lees hierdie uitstekende roman."

In Brandwaterkom word die lewensverhaal van verskeie karakters uit die perspektiewe van verskillende persone vertel, skryf Dewald Koen (Volksblad, 13 Julie 2015). Esther van Emmenes, ’n navorsers aan ’n universiteit, gaan na Fouriesburg in die Vrystaat waar sy navorsing oor die ABO doen vir haar tesis. Sy ontmoet verskillende interessante persone gedurende hierdie tyd. Hieronder tel Bullet, "’n karakter wat talle ooreenkomste toon met ’n gelyknamige karakter in Strachan se Dwaalpoort. Bullet se verbintenis met die plaas Dwaalpoort en veral ook die withartbees, Mhlope, lei Esther op ’n senutergende speurtog wat geskiedkundige navorsing na allesbehalwe vervelig laat lyk. (...)

"Die tweede 'loop' van die 'dubbelloop-roman' handel oor Fanie Vilonel wat as regsgeleerde hoë aansien onder die plaaslike Vrystaatse gemeenskap geniet. Fanie is egter terdeë bewus van sy verpligtinge as Afrikanerman en voer ’n innerlike stryd om die regte besluite te neem. As kryger speel Vilonel ’n belangrike rol tydens die verskeie veldslae waaraan hy deelneem en wat deur onvoorsiene omstandighede tot ’n verrassende voorval aanleiding gee. (...)

"Strachan het op meesterlike wyse die geskiedkundige feite met fiksie verweef. Sy beskrywing van verskeie veldslae is treffend. Hy fokus veral op geskiedkundige figure, soos sir Redvers Buller wat op amper komiese wyse uitgebeeld word. (...) Strachan se skerp sin vir detail en fyn sintuiglike waarnemingsvermoë stel lesers in staat om die veldslae mee te maak asof hulle self daar teenwoordig was.

"Verwysings na die Grensoorlog kom ook in die roman aan die bod. Bullet se gesprekke met Van Emmenes beklemtoon die feit dat talle oudsoldate steeds nie hierdie traumatiese hoofstuk in hul lewe kan afsluit nie. Net soos Vilonel se karakter, moes Bullet ook traumatiese oomblikke tydens oorlogvoering beleef wat sy siening van die lewe drasties verander het.

"Volgens Bullet is Dwaalpoort 'die plek waar die twee oorloë bymekaar kom'. Dié aanhaling wek talle vrae rondom Bullet se obsessie met die plaas Dwaalpoort en watter betekenis Bullet se geheime vir Esther en Vilonel inhou.

"Vrae en antwoorde is deel van Strachan se literêre spel. Wat is feit en wat is fiksie? En wie vertel die verhaal? Watter vertelling is geloofwaardig? Die antwoorde op laasgenoemde vrae moet die leser maar self ontdek.

"Dit is juis Strachan se vernuftige verteltegniek wat Brandwaterkom van soortgelyke romans onderskei. Op kreatiewe wyse word die leser op ’n speurtog in die geskiedenis geneem wat ’n onverwagte draaipad neem."

In Taalgenoot (Somer 2016) skryf Natie Botes: "Na Brandwaterkom gelees is, kan jy nie help om te wonder oor die plek van standbeelde en heldeverering in moderne gemeenskappe nie. Is dit nie maar ’n gegewe feit dat die ware helde nooit erken word nie? Met groot sukses systap Strachan al die slaggate wat met ’n geskiedkundige verhaal kan opduik en laat hom selfs lei deur die magiese.

"Moontlik die grootste rede vir die sukses van Brandwaterkom is dat die skrywer indiepte navorsing gedoen het oor sy onderwerp. Dit was dus nie net ’n heerlike leeservaring nie, maar ook ’n opwindende stukkie geskiedenisklas."

Ook Louise Viljoen is beïndruk met Brandwaterkom. Op LitNet eindig sy haar LitNet Akademies-resensie-essay as volg: "Strachan keer met Brandwaterkom terug na vraagstukke in verband met die geskiedenis wat reeds die afgelope dertig, veertig jaar groot prominensie in die Afrikaanse letterkunde geniet, maar slaag tog daarin om ’n vars perspektief daarop te gee. Sy uitwys van die raakpunte én verskille tussen die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog bring ’n nuwe invalshoek. Dit is veral die idee dat verskillende oorloë 'momente is van dieselfde verhaal' wat stof tot nadenke bied. ’n Mens sien uit daarna dat Strachan in sy verdere werk die raamwerk van die 'verhaal' waarin hierdie twee oorloë met mekaar verbind is, in groter besonderhede uitwerk nadat hy dit op so ’n evokatiewe wyse in Brandwaterkom gesuggereer het.

"Sy hantering van die skrywersfiguur wat tegelyk binne die teks is en dit van buite manipuleer, sluit aan by die metafiksionele strategieë wat tipies was van die postmodernistiese tekste van die 1980’s en 1990’s. Deur die verglyding van die karakter Bullet met die skrywer binne die teks en die werklike skrywer Strachan verkry die gegewe egter ’n bepaalde kompleksiteit en onmiddellikheid. Verder skep die lewendige rekonstruksie van die Anglo-Boereoorlog, die liriese evokasie van ruimtes soos die Brandwaterkom en Dwaalpoort en die geloofwaardige karaktertekening ’n roman wat die leser se aandag uit die staanspoor vasvang en deurgaans behou."

Alexander se boek oor die recce's, 1 Recce: die nag behoort aan ons, word in 2018 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.

In ’n onderhoud met Charles Smith (Netwerk24, 27 Oktober 2018) vertel Alexander dat twee voormalige lede van 1 Recce, Jakes Swart en André Bestbier, hom genader het met die idee om ’n boek oor 1 Recce te skryf. Daar was al publikasies oor 4 Recce en 5 Recce, maar daar het nog nooit iets verskyn oor die moedereenheid van die recce's, 1 Recce, nie.

"Sonder enige omhaal het hulle my toe ingelig dat hulle my gekies het om die geskiedenis van 1 Recce te skryf. Hulle sou nooit ’n buitestander – iemand wat nie deel van die spesiale magte was nie – vir die skryftaak oorweeg het nie," vertel Strachan aan Smith.

"My bewese skrywersrekord het sterk in my guns getel. Die kort en kragtige vergadering is verdaag en ek is verseker dat ek hul volmag het asook hulle ondersteuning vir die reël van onderhoude met voormalige operateurs en ander lede van die eenheid. Ek het die vryheid gehad om die inhoud van die boek te bepaal en te bepaal wat hulle later sou wou sien. Dit het vir my baie gewig gedra dat die besluitneming vir hierdie skryfprojek op generaalvlak geneem is."

Alexander het twee jaar aan die boek geskryf en die laaste paar maande voor voltooiing het hy 16 uur per dag gewerk. Frans van Dyk was van groot hulp met die reël van die meer as 50 onderhoude met recce-operateurs. Daar is seker gemaak van die betroubaarheid van al die materiaal wat gebruik is en sy uitgangspunt was om inligting by diegene te kry wat persoonlik in die kontak (vuurgeveg) was. Hy het ook nie van inligting wat op hoorsê-basis verkry is, gebruik gemaak nie. Vir hom was persoonlike onderhoude met die "manne op die grond" belangriker as operasionele verslae – hierdie verslae het dikwels foute bevat, het hy agtergekom.

Alexander was self van 1977 tot 1984 ’n lid van 1 Recce. Alles het by 1 Recce, die moedereenheid, begin waar voornemende lede by Durban Bluff moes aangemeld het vir keuring en verdere opleiding. Hy het nog altyd kontak met die instrukteurs Hennie Blaauw en Flip Marx wat hom gekeur het.

Hy vertel aan Smith: "Ek onthou magiese plekke soos Fort Doppies waar die atmosfeer en uitsig oor die Kwandorivier idillies was. Daar was baie reise na ver en onbekende plekke, groot vyandige aktiwiteit, vrees, sweet wat in jou oë inbrand, honger, dors en geweldig baie adrenalien wat jou dikwels lighoofdig gelaat het.

"Die eerste ding wat vir my uitstaan, is die hegte vriendskappe wat ek in my tyd in die eenheid gesmee het. Die Recce's vorm ’n baie hegte broederskap en dié kring kan nie deur buitestanders binnegedring word nie. Iemand het voorheen genoem dat na afloop van sy tyd in die Recce's die res van sy lewe maar redelik saai was. Daar was inderdaad groot opwinding, maar natuurlik ook groot swaarkry wat die onderlinge band tussen die Recce's net sterker gemaak het."

Alexander se kortverhaalbundel, ’n Wêreld sonder grense (1984), kan beskou word as een van die eerste fiksiewerke wat oor die Recce's geskryf is. "’n Wêreld sonder grense is so half in die geheim geskryf omdat alles (die inligting en die politieke klimaat) in daardie stadium nog uiters sensitief was. Derhalwe het ek die boek in fiksievorm aangebied. My benadering in die huidige boek (1 Recce) is meer in die ope hoewel ek steeds die spanningslyn van weleer in veral die hoofstukke in die vuurgevegte behou.

"Ek het probeer om die leser as ’t ware in die vliegtuig saam te neem, die valskermsprong saam met die operateur uit te voer en die gevoel te kry dat hy aan die ontplooiing op die grond deelneem. Sodoende het ek gereken kry die leser ’n baie nabye ervaring van hoe dit was om aan ’n geheime militêre operasie deel te neem."

In Rapport (6 Januarie 2019) skryf Abel Esterhuyse dat die literatuur oor die Grensoorlog aan die opbloei is. Daar is verskeie redes daarvoor en dit is veral geskrifte wat fokus op die spesiale magte, of die recce's soos hulle in Suid-Afrika bekendstaan, wat veral gewild is. Dit kan wees omdat hierdie stories die fondamente van ’n goeie storie bevat: avontuur, spanning, waagmoed, ongekende ontbering, geheimhouding en helde.

"As lekkerleesboek bevat 1 Recce inderdaad al dié elemente én dit vul ’n gaping in die Suid-Afrikaanse militêre geskiedskrywing deur die 'vorming en opbou' van 1 Verkenningsregiment as ’n onafhanklike operasionele eenheid binne die voormalige weermag te dokumenteer. (...)

"1 Recce vertel ’n interessante storie van historiese aard, maar steun nie op omvattende historiese navorsing nie en is ook nie ’n regimentele geskiedenis van 1 Verkenningskommando nie. Dit verander geensins die feit dat die boek ’n belangrike en boeiende bydrae lewer tot die dokumentering van die geskiedenis van die spesiale magte in Suid-Afrika nie. Dit is regtig uitstekend geskryf en besonder leesbaar. (...)

"Die boek bevat verskeie interessante anekdotes wat tot die algemene publiek sal spreek. (...) Maar bowenal is daar ’n verhaal van menslikheid en die soeke na sin, vrede en werklikheid in die boek opgesluit. Miskien is dit uiteindelik Strachan se grootste bydrae met 1 Recce: die nag behoort aan ons: dat oorlog ’n diep menslike werklikheid is in uitdaging, hantering en gevolge."

Willie Burger skryf in Vrouekeur van 5 Januarie 2019 dat die leser van 1 Recce nie ’n boek met presiese datums en "konseptualisering" moet verwag nie. Daar is ook nie eintlik sprake van versigtige argiefondersoek nie. Dit bestaan hoofsaaklik uit onderhoude met oudrecce’s en het dus ’n sterk anekdotiese inslag.

Burger sluit af: "Strachan maak op sy skryfvernuf staat om telkens die leser midde-in ’n gevegsituasie of gevaarlike operasie te plaas, wat later opgevolg word deur herinnerings en terugskoue wat nie vry te spreek is van romantisering nie. Uiteindelik is 1 Recce ’n lofsang aan die heldedade van ’n groepie uitsoeksoldate. Daar is iets nostalgies daaraan sodat die boek effens soos ’n koshuisjaarblad voel. Breër historiese en politieke kontekstualisering ontbreek. Dit is ’n boek oor en vir kamerade. Maar ook byna alle mans oor 45 jaar sal die boek waarskynlik nuuskierig optel om meer van daardie ouens te probeer weet wat steeds deur baie as helde bewonder word."

Oor moontlike toekomstige boeke vertel Alexander aan De Vries dat hy hom byna laat verlei het om verder te skryf oor die laaste twintig lewensjare van sy hoofkarakter in Brandwaterkom, Fanie Vilonel. Maar ’n goeie vriendin wat ook ’n literator is, het hom afgeraai aangesien ’n roman soos Brandwaterkom nie moet afgesluit word nie, sodat die leser kan bly wonder oor wat verder gebeur het.

"Nietemin bly ek lus vir die historiese roman en hoewel ek Vilonel in Senekal agterlaat, mag ek dalk met een van die mindere karakters na ’n nuwe milieu reis om die geskiedenis van daardie landskap te gaan ontgin."

Publikasies:

 

 

 

 

 

Publikasie

Dwaalpoort

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624049210 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • WA Hofmeyr-prys 2011
  • 3de prys Sanlam se Groot Romanwedstryd

Vertalings

Nederlands deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brandwaterkom

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624073369 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • 3de prys, Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd
  • kykNET-Rapport Boekpryse 2016, fiksiewenner

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

1 Recce: die nag behoort aan ons

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624081494 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Militêre geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Alexander Strachan beskikbaar op die internet:

Artikels deur Alexander Strachan beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2019-06-26

The post Alexander Strachan (1955–) appeared first on LitNet.

Cas Vos (1945–)

$
0
0

Sêgoed van Cas Vos

“Predikant of advokaat. Dis wat ek altyd wou geword het (digter). Het altyd die gladde tong gehad. ’n Geslepe tong.” (Rooi Rose, 23 Junie 1999)

Hoe kan ons die Onbegryplike beter verstaan – met prosa, liedere of gedigte? “Deur prosa kan ons verhale vertel en deur liedere met mond en hart uitdrukking aan ons geloof gee. Gedigte is die woordprikkel wat ons diep kan raak en ook kan troos.” (Sarie, 26 Desember 2001)

“Ons kan nie sonder die liefde leef en sterf nie. Sonder die liefde is alles niks. Dis ons verweer teen seer, eensaamheid, en die dood. Met liefde vier ons die lewe.” (Sarie, 26 Desember 2001)

“Skryf is vir my om tussen woorde asem te haal. My werk is woorde, en skrywe is ’n manier om tot myself te kom. Vir my is dit baie noodsaaklik. Dis ’n doelbewuste bevrydende daad.” (Beeld, 25 Julie 2001)

Hoe gebeur ’n gedig by hom? “Saam met TT Cloete wil ek sê dat gedigte uit die mees onverwagte oord kan kom. Ek dig met my oë. Daarom is ek altyd op die uitkyk na digmoontlikhede. Ek dig ook met my liggaam. ’n Bepaalde ervaring kan tot ’n gedig lei. Ek dink ook na en soek na konsepte wat gedigte kan word. ’n Gedig is altyd in wording. Reis maak nuwe wêrelde oop en ervaringe los. In Parys het ek onlangs baie gedigte geskryf. Moenie vra waaroor nie!” (Woordkuns-artikels, www.teo.co.za, 7 September 2009)

Wat sê Jesus se opstanding vir sy geloof? “Sonder die opstanding stort my geloof in duie. My persoonlike geloof is ingeweef in die opstanding. My geloof is juis geloof omdat dit deur die opstanding leef. Geloof is vir my die vaste vertroue dat Jesus Christus deur sy opstanding die grafnate geskeur het. En nou kan ek deur die skeur kyk en sien dat ek ook ná my dood eendag as Hy weerkom, sal opstaan.” (Algemene Kerkbode, 26 Maart 2004)

“Ek leef met my sintuie. Die tong praat oor liefde, pyn, hoop, drome. Oor dood – die groot laaste. Die tong is ’n sleutel tot my werk. Met my tong proe ek.” (Rooi Rose, 23 Junie 1999)

“Die poësie het vir my ’n leefwyse geword, ’n bloeiwyse – na twee kante toe.”

Het hy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer hy aan ’n vers werk? “O hemel, dit wemel van persone. Werklikes, verbeeldes, dooies. Vir my is ’n konsep belangrik. Dit vorm die draende grond van die gedig en stel my in staat om die gedig volgens ’n patroon/patrone te rangskik. Maar ’n gedig laat hom/haar nie maklik afskrik nie. Daarvoor is hy/sy te woelig en te vlugtig.”

“Poësie het iets wesenlik in my lewe geword – soos asem – iets waarsonder ek nie kan klaarkom nie.”

Op Versindaba vra Zandra Bezuidenhout aan Cas Vos hoe hy sy toekoms as digter sien, en veral ’n Afrikaanssprekende digter, en of daar ‘n toekoms vir die Afrikaanse poësie is. “Oor  die toekoms kan ek net droom. Ek wil graag nog gedigte liggies met ’n gansveer op die perkament van die aardbol skryf. Solank daar digters is, sal ons Afrikaans praat. Daar is net, beskamend genoeg, te min lesers vir te veel digters." (Versindaba)

“Woorde is vir my soos asem. Ek kan nie daarsonder leef nie. Woorde kry soos soet vye ’n lêplek op die tong. Woorde en die spel met woorde fassineer my eindeloos. Ek laat my in die skryfproses verlei, maar as ek afgekoel het, skaaf ek eindeloos. ’n Duisend keer. By ons wonderlike vriendin Eveleen Castelyn het ek geleer: 'Kill your darlings.'” (Versindaba)

Oor sy vertaling van die Ilias: “Al is die wêreld van Homeros onbereikbaar ver, is dit tog so digby ons. Die mens bly mens. Feilbaar, arrogant, astrant, agterbaks, geslepe, magsbehep. Ek het opnuut respek vir die Griekse teks gekry. Die teks is van geslag tot geslag oorgelewer. Die mondelinge tradisie het my laat besef dat ’n goeie verhaal vertel móét word. Die karakterbeelding, die spanning, die plot, die intrige, die verrassende wendinge en die tyd en ruimte waar dit afspeel, het my vasgenael laat sit en lees.” (Woordkuns-artikels, www.teo.co.za)

Gebore en getoë

Casparus Johannes Adam (Cas) Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is die oudste van vyf kinders van Willem Albertus Vos en Johanna Hendrina Botha. Sy ouers het in Brits en Marikana geboer en later het die gesin na Pretoria getrek. Sy pa het by die Spoorweg gewerk en later ’n vervoerbesigheid gehad. Sy pa is in 1986 oorlede en sy ma in 1979.

Cas vertel aan LitNet: “Ek het die lewenslig eerste gesien en sien dit nog. Ek het skerp  herinneringe van my kleintyd op die plaas. Ek kan steeds die turf ruik en die sterre sien gloei. My grootworddae was salig en gelukkig. Veral as ons by my oupa en ouma gaan kuier het.”

Cas sê dat hy net na die Skepping skool toe is – in 1952 by die laerskool De Kroon in Brits. Hy was nie lank daar nie voordat hulle Pretoria toe is. “Andries Pretorius was my laerskool. Hiervan het ek glansende herinneringe. Die onderwyseresse en onderwysers het ’n groot invloed op my uitgeoefen. Veral juffrou Leverton en die hoof, mnr Campher. In die Hoërskool Tuine het verskeie onderwysers my geïnspireer, veral mnr Jan Pretorius en die hoof, mnr JA van der Walt. Op die laerskool het ek al ontdek dat ’n meisie mooi is en ek was besonder lief vir sport, veral rugby, krieket en atletiek. Ek het rugby gespeel, maar in krieket uitgeblink. Ek het ook toneel gespeel. In standerd agt het ek die voordragwedstryd vir al die skole in Pretoria gewen en ’n vergulde sertifikaat ontvang. Ek het van al die vakke op skool gehou, veral van Afrikaans, Engels, Duits en Latyn.”

Toe Cas in standerd agt was, was hy strooijonker op sy ma se neef se troue. Die strooimeisie, Lida, was die bruid se suster en dit is waar ’n lewenslange verbintenis begin het.

Volgens Cas was woorde vir hom nog altyd soos moedersmelk. “Ek het kleintyd nie met karretjies gespeel nie, maar met woorde.”

Verdere studie en werk

Na skool is Cas na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1966 sy voorgraadse studie voltooi. In 1970 maak hy ook sy nagraadse studie in die teologie klaar. In 1978 slaag hy sy doktorale studie met lof. In 1984 promoveer hy met lof in die dogmatiek onder prof Johan Heyns. Die titel van sy tesis is “Die Heilige Gees as kosmies-eskatologiese gawe. ’n Eksegeties-dogmatiese studie”.

Vanaf 1971 tot 1974 is hy predikant by die NG Gemeente Riebeeckpark in Kemptonpark, van 1974 tot 1982 by die Gemeente Krokodilrivier in Brits, en van 1982 tot 1988 in Suidoos-Pretoria. In 1989, nadat hy die bediening verlaat het, word hy medeprofessor in die praktiese teologie by die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en vanaf 1992 volle professor. Hy lewer op 14 Februarie 1991 sy intreerede onder die titel “’n Vlammende lied: Metateoretiese en prakties-teologiese grondslae van die homiletiek”. Hy word in 2000 aangestel as dekaan van die Fakulteit Teologie – ’n posisie wat hy tot die einde van Februarie 2010 beklee. Hy tree aan die einde van Junie 2010 af.

Met sy aftrede in 2010 span Dirk Human en Danie Veldsman saam as redakteurs van ’n huldigingsbundel aan Cas Vos onder die titel Oor jou afdrukke. Dit bevat ’n biografiese opsomming van sy lewe, asook etlike artikels oor sy digbundels en teologiese artikels deur sowel plaaslike as internasionale skrywers.

In 2001 ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Pieter van Drimmelen-medalje vir Bybelvertaling aan hom toe en vanaf 2004 tot 2006 was hy president van die Societas Homiletica Internasionaal, ’n liggaam vir die preekkunde. Op akademiese terrein is hy lid van die dogmatologiese werkgemeenskap, die werkgemeenskap van praktiese teologie in Suid-Afrika en die Arbeitsgemeinschaft für Homiletik. Hy is voorsitter van die homiletiese werkgroep in Pretoria en dien in die redaksie van Praktiese Teologie in Suid-Afrika en Skrif en Kerk. Verder is hy lid van die kernredaksie van die handboekreeks vir praktiese teologie. Hy dien ook op verskeie kommissies van die Sinode van Noord- en Oos-Transvaal en die Algemene Sinode.

By verskeie geleenthede tree hy in die openbaar op waar hy van sy verse voorlees, soos by die UP-Boekjol in Pretoria en die Versindaba in Stellenbosch. Meermale neem hy ook aan radioprogramme deel, veral oor die teologie. 

Cas en Lida is in 1969 getroud. Twee seuns is uit die huwelik gebore: Stefan in 1972 en Johan in 1974. Hulle het een kleinseun, Reynard, wat volgens Cas, baie na sy oupa aard. Cas beskryf Lida as die handige een wat baie kunstig is en allerhande goed kan maak. Sy is ook sy eerste leser en as sy sê ’n beeld werk nie, werk dit nie. Oor die erotiek wat hy so openhartig beskryf, het sy hier en daar gewonder of ’n mens dít of dát voor mense mag sê, maar sy het nooit probeer keer of sensor nie.

Vanaf 1986 dien Cas in die Psalmberymingskommissie en was hy ook vier jaar lank voorsitter van die Gesangekommissie. Hierdie kommissie het alle bestaande gesange hersien en nuwe tekste gekeur. Hy het self vyftien nuwe liedtekste geskryf. Met die samestelling van die Liedboek het hy ’n sleutelrol gespeel en aan die einde het hy gesê: “Dank Vader die Liedboek is klaar, hoewel dit ’n groot uitdaging was. Die hersiene en nuwe tekste moes getrou aan die Bybelse boodskap wees, inpas by die musikale struktuur en aan die basiese vereiste van poësie voldoen.”

In 1998 word Die volheid daarvan. Deel 1 en 2 by die RGN gepubliseer en in 1999 word dit bekroon met die Andrew Murray-prys, wat beskou word as die grootste prys in Afrikaans vir teologiese en godsdienstige publikasies. Tydens die oorhandigingsfunksie het Cas ’n beroep op teoloë gedoen om in Afrikaans te skryf en te publiseer, en gesê dat om teologie in Afrikaans te bevorder, daar in Afrikaans gedink en geskryf moet word. Afrikaanse teoloë het die verantwoordelikheid om die teologie in Afrikaans te help uitbou. In sy toespraak het Cas hulde gebring aan baanbrekers op die gebied van Afrikaanse teologie en gesê taal beskik oor die vermoë om ’n nuwe wêreld te skep. “Deur taal kan die mens God se wêreld ooptower. Die Bybelverhaal moet nie net in die prediking herhaal word nie, maar oorvertel of oorgeskryf word. Die sin van God se bedoelinge moet hier en nou gelees en geleef word, en dit moet in ’n taal gebeur wat mense ontroer.”

Oor Die volheid daarvan sê Cas dat volheid na die volheid van die preek verwys. “Dit gaan oor die volheid van heil, genade en liefde wat die preek oopmaak. Ek wil graag hê dat predikers en hoorders dié volheid hulle eie sal maak en vreugde daaraan sal hê. Want dit is wat ’n preek onder andere wil doen: dit wil mense bly maak oor God se grenslose genade. Te veel preke het nog ’n nors gesig sonder warmte.” (Algemene Kerkbode, 14 Mei 1999).

Rondom 1984 het hy gedigte in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer en sy debuut, Vuurtong, het in 1999 by Benedic verskyn. Aan Algemene Kerkbode erken Cas dat Volheid werk én lekker was en Vuurtong lekker én werk. Dit was veral die vrug van die drie voorafgaande jare. “Die bundel het sy eie pad geloop. Soms het hy sy kop gestamp en later het hy op sy eie bene begin waggel. ’n Mens voel, proe, ruik en soek. Oral lê daar versreëls wat dalk ’n gedig kan word. Dan soek jy na verbande, ritme, rym, patrone en wat ook al. En dan moet die gedig ’n eie stem kry en in ’n geheel inpas.

“Ek kan nie anders nie. ’n Gedig is soos ’n hoes. Jy kan dit nie inhou nie. ’n Digter dig om rekenskap van die lewe te gee. Só kyk ek na myself en die lewe. Die lewe met al sy raaisels, pyn en plesier. En in die kyk maak ek dalk ’n paar loergaatjies vir ander mense oop.”

Cas verduidelik aan Neels Jackson (Beeld, 23 April 1999) dat die titel dadelik, op dualistiese wyse, dui op ’n verskeidenheid interpretasiemoontlikhede as sleutels tot die bundel: “’n tong van vuur” as simbool van seëning, die uitstorting van die Gees; skeppende geboorte: van verse, mense en (ander) hemelliggame; en sensuele liefde. Aan die “negatiewe” kant kan dit dui op vernietiging, dood, die vuur wat homself uitbrand.

“Die bundelsiklus wentel van liefde tot dood. Die liefdesverse, merendeels in ’n ‘Hooglied-modus’, lei ook die skeppings- en herskeppingstema in. In ’n volgende afdeling is daar religieuse motiewe wat met die lewe skakel. Die doodsmotief klink later ook sterker op. In die voorlaaste afdeling vloei sensuele, musikale en kosmiese skepping ineen. In die laaste afdeling word die doodstema voltrek. Die tong ‘maak’ gedigte vir mense op hulle reis deur die lewe tot by die dood. Dis ons almal se gedigte.”

In vergelyking met Volheid is Vuurtong maar klein. Maar as jy vir Cas vra, was die poësie vir hom die lekkerste. “Dit kom spontaner. Die skeppingsproses is suiwerder. Nie dat Die volheid daarvan nie ook ’n klomp kreatiwiteit geverg het en lekker was nie – of dat die poësie nie ook harde werk was nie. Maar Vuurtong, sy ‘kleintjie’, is spesiaal.” (Algemene Kerkbode, 14 Mei 1999) Die debuut was ook op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Hy weet nou hoe ’n vrou voel ná die geboorte van haar kind: die wonde en die verwondering. En, voeg hy teenoor Neels Jackson by, “Wees goed vir my kleintjie. Hy aard na my. Hy is soos ek geneig tot die sonde.”

Bettie Coetzee skryf in Rooi Rose (23 Junie 1999) dat Cas Vos in Vuurtong nie preek nie, maar jubel. “Hy leef sy liefde vir die lewe hierin uit. In die liefde tussen man en vrou in ’n verhouding waar hulle vir mekaar omgee en mekaar nie net selfsugtig 'gebruik' nie, is niks vir hom geheim nie. Hy sien g’n onderskeid tussen sy lewe as akademikus en kerkman en sy lewe as man, pa en minnaar nie. Elke fase, glo hy, moet ten volle uitgeleef word. Daarom draai hy nie doekies om nie, ook nie in sy digwerk nie.”

Hy erken dat so ’n openheid jou nie oornag oorval nie. Dit is ’n geleidelike groeiproses wat ’n mens so “oop” maak. “Afrikaners het mos maar eers sedert die jare sestig van seks gehoor. Boeke wat die erotiek en godsdiens wou meng, is links en regs verban. En dit is my studie van die Bybel wat my van die tradisionele Afrikanertaboe losgemaak het.

“Toe ek Hooglied in die oorspronklike Hebreeus lees, het ek besef hoe ‘gesensor’ die Afrikaanse Bybelvertaling dié loflied aan die lyflike liefde weergee. Die genot van die liefde tussen man en vrou is in Christelike verklarings as die vergeestelike liefde tussen Christus en die Kerk, die Bruidegom en die Bruid gesien. Dis toe ek besluit ek kan ook stem gee aan erotiese ervarings. Die erotiek is immers ’n geskenk van God. Die Bybelse tekste het my selfs meer beïnvloed as Breytenbach se liefdespoësie. Ook dié van Van Wyk Louw en TT Cloete.

“Ek het nooit gedink ek doen iets boos om so openlik oor die plesier van die lyf te skryf nie. En niemand het nog gekla nie. Trouens, al my kollegas van die Fakulteit Teologie was by die bekendstelling van die bundel. Gemeentelede was net vol lof.”

Toe sy ma in 1979 oorlede is, het die skok van haar dood veroorsaak dat hy diabetes ontwikkel het. Hy het dit onder beheer met insulien, maar dit het hom meer laat besef dat die lewe nie net kosbaar is nie, maar ook baie broos en dat ’n mens elke dag voluit moet beleef.

Dit wat hy sien, is net so ’n belangrike prikkel vir sy digkuns. As hy iets besonders sien of hoor, kom die reëls sommer by hom op. “Toe ek Van Gogh se skilderye in Holland sien, kon ek my nie keer nie. Moes ’n servet gryp om gou neer te skryf.” Later het die reëls ’n gedig geword: ‘In nabye vertes waar oë stipkyk kyk/ en ’n huis en stilbome vaagweg sien,/ hurk ’n klein plantasie in bewondering/ langs die son se tong wat gesaaides streel.’”

AP Grové skryf in Beeld (5 Junie 1999) dat die ses afdelings van hierdie bundel in meer as een opsig skerp van mekaar verskil, maar inherent tog verwant is, aangesien elke afdeling op sy eie wyse ’n “aards-boaardse spanning” na vore bring. “Verder bly die digterlike strategie, by alle wisseling, ook feitlik deurgaans konstant soos die digter met behulp van intertekste, veral uit die Bybel, probeer om ’n hoër, edeler dimensie aan die aardse werklikhede en belewenisse toe te voeg. (...) Daar sit sinvolle beplanning in die bundelopset. Die bundel bevat ’n ryk gedagte-inhoud en idees met moontlikhede, maar daar is te min taaldissipline en te min taaldwang om die bundel te maak wat hy kan wees.”

Cas se volgende digbundel, Gode van papier, word in 2001 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Teenoor Neels Jackson (Beeld, 25 Julie 2001) beskryf hy Vuurtong en Gode van papier as familie vanweë die erfsonde. “Maar elke bundel het ’n eie stem. Miskien is Vuurtong nader aan my eie lyf. Gode van papier bestyg ’n meer omvangryke register. Ek wou in hierdie bundel aan verskeie temas gestalte gee. Al het ons soveel gode, wou ek sê dat ons gode voete van klei het. Hulle moet op hul plek gesit en gehou word.” Die liefde is ook een van die temas wat Cas in die bundel aanraak.

Een van die temas wat Cas in hierdie bundel aanraak, is die liefde. En al is daar baie ter sprake van god en gode, dink hy nie dat dit hom saamgooi met ander tradisionele predikantdigters nie. “My gedigte is nie prekerig nie. Ek werk ironiserend, dryf die spot. En die bundel handel ook oor die verlies van gode. Hoewel die woord ‘gode’ dikwels in die bundel gebruik word, dui dit baie keer nie op gode in die tradisionele sin van die woord nie. Allerlei dinge, tot die gedigte self, word gode in hierdie bundel.

“Soms sny ek wel die teologie aan, soos in die gedig ‘As die gode paradeer’, waar met die voorsorggod, die sportgod en die seksgod gespot word voordat die digter in die slotkoeplet bely: ‘Mý god hang eeue reeds aan ’n geykte kruis/ waar hy sy bloeiende hart vir geringes wys.’”

Verlies is vir Cas dié tema wat deurlopend in Gode van papier te bespeur is. “’n Mens sien dit in die eerste afdeling oor gode, in die tweede oor die liefde (waarin ook ’n paar erotiese verse voorkom), in die derde waarin gedigte oor ’n reeks figure soos Dracula, Baudelaire, Lorca, John Lennon en Mozart opgeneem is en in die slotafdeling met die titel “La tristesse durera toujours” – hartseer sal vir altyd duur.”

Hy wou op daardie stadium nie oor verdere bundels praat nie en haal vir Breyten Breytenbach aan wanneer hy sê: “Ek weet nie of ek nog één gedig kan skryf nie.” “Maar,” voeg hy dan by, “as die gode op papier dans, sal ek dankbaar wees.”

AP Grové (Beeld, 30 Julie 2001) meen dat wat opset en aanslag betref, Gode van papier sterk verskil van Vuurtong, maar dat daar tog familietrekke te bespeur is. “In beide lê daar byvoorbeeld ’n duidelike aksent op taaluiting in skriftuur, en spraak, iets wat miskien al in die onderskeie bundeltitels af te lees is. (...) Dit is duidelik dat die digter heelwat illustrasiemateriaal byeengebring het, dat hy heelwat aandag aan beplanning bestee het en dat hy met sy teenstellings dikwels sprekende effekte kon bereik. Aan die anderkant kan daar ook op tegniese en struktuurprobleme gewys word: versvulling, geforseerde ryme en vergelykings.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 30 Julie 2001) is die derde afdeling, “Beeldwoorde”, die sterkste een van die bundel. “Daar is ’n handvol gawe verse in hierdie bundel. Soms is daar verse wat in ’n ouer retorika geskryf is, wat selfs ‘outyds’ vir die moderne leser mag aandoen. Waarskynlik is die gedigte te veel met die kop en te min met die hart geskryf. ’n Mens mis dikwels die swing van ’n treffende vers. Te dikwels preek die digter sodat die vers se boodskap doodgemaak word. Dit is ’n bundel van Protea Boekhuis wat bewys dat daar lewe is buite die bestaande uitgewershuise. Dit is smaakvol uitgegee met verklarings van minder bekende begrippe.”

Enkeldiep (2003) is die derde bundel in Cas se oeuvre en sit dit tematies en verstegnies voort. Tydens die bekendstelling van hierdie bundel het Cas gesê: “Ek voel dat daar ’n tematiese verruiming in hierdie jongste werk is. Daar is ’n kosmiese perspektief wat sterker is as tevore, minder van myself en meer van die pyn in my.” Die kosmiese perspektief vind ’n mens ook in die vier elemente – aarde, water, lug en vuur – wat dwarsdeur die bundel ontgin word. Dis ook daar in die skeppingsproses, met eggo’s van die Bybelse skeppingsverhaal. Hy gee ook toe dat Enkeldiep baie meer van ’n gestrooptheid aan hom het as sy vorige bundels. Daar is ’n hele afdeling wat aan siekte en aftakeling gewy word. Ook die liefdesgedigte is subtieler en minder baldadig as tevore.

“Daar is talle godsdienstige verwysings dwarsdeur die bundel, maar dit is gewis nie belydenispoësie nie en ek preek nie. Saam met ander staan ek enkeldiep in die lewe en soek na sin,” vertel hy aan Neels Jackson (Beeld, 27 Augustus 2003).

Fanie Olivier (Beeld, 5 Januarie 2004) is van mening dat daar nie omvattende of ingrypende vernuwing in hierdie bundel met sy vyftig gedigte is nie, “maar dan is dit ook natuurlik geen uitgemaakte saak dat so ’n verwagting die norm mag of moet wees nie. Vir nuwe lesers is dit uiteraard nie eers ter sake nie.

“Bekyk ’n mens die bundel is dit sinvol in vyf afdelings georganiseer. Die bundeltitel lees ’n mens raak in ‘Achilleshiel’ waarin die skynbaar onaantasbare mens se kwespunt getref word deur ’n pyl wat grondlangs op enkelhoogte swiep; daarmee saam onthou die leser ook die uitdrukking van kniediep in die moeilikheid wees.

“Die bundel is dan ook ’n verkenning van die mens se weerloosheid en die wyse waarop hy homself in die moeilikheid gebring het. Buite hom om bestaan die volheid en die rykdom van God se skepping, maar daarvan is min die mens beskore. (...)

“Vos se verstegniek bly basies dieselfde. Daar is sterk klankbinding – ’n klompie gedigte is selfs formeel – en in die sterkste gedigte is daar dikwels baie sterk rym in die slot. Aan die debietkant bly die stellingrige aard van die gedigte my persoonlik pla. Te dikwels nog is die gedigte horterig omdat dit sintakties nie vloei nie: as gevolg daarvan is die slotte eerder voorbereid as die sleutels waaroor NP Van Wyk Louw dit gehad het. Enkeldiep is pragtig uitgegee deur Protea Boekhuis en ten spyte van my voorbehoude, bly dit ’n waardige en welkome voortsetting van die eiesoortige digterskap van Cas Vos. Hierdie digterskap, en die bereidwilligheid om dit te bestendig, is belangrik vir Afrikaans.”

Vir Bernard Odendaal toon Cas se drie digbundels wat gehalte betref, ’n stygende lyn. Daar is verse in Enkeldiep wat beter kon gewerk het as dit fyner afgewerk was en ook meer deeglik oorweeg is, maar daar is net soveel wat op ’n digterlike grondslag slaag. Gedigte wat in hulle totaliteit tevrede stel is onder andere “X-straalfoto”, “Stasie”, “Teësprake”, “Siek vrou”, “Maan”, “Soetlemoen”, “Son”, “Riskant” en “Sterre”.

In 2005 verskyn Cas se studie in die eksegese, homiletiek en digkuns getiteld Theopoetry of the Psalms. Die skrywer gee erkenning aan ’n wye veld kenners met wie hy in kontak gekom het, skryf Joan Hambidge (Volksblad, 1 Augustus 2005). Dit is ook duidelik dat hy nie alleen teologies na die psalms kyk nie, maar dat sy digterlike oordeel ook ’n rol gespeel het.

“‘The rich tone of each psalm (poem) must be heard. We need to listen to the way each individual psalm harmonises with the other voices in the choir.’ Vanselfsprekend speel tradisie en resepsie ’n belangrike rol in hierdie soort studie en die skrywer erken ook die invloed van die sosiohistoriese agtergrond wanneer tekste gelees word. Die moderne teologie se skatpligtigheid aan die moderne literatuurwetenskap val ook in hierdie studie op. Dit gaan dus nie net oor emosionele uitsprake nie, maar veral om ’n soeke na struktuur (vorm en inhoud) in die interpretasie van die gedigte.

“Kodes en konvensies word dus agterhaal ten einde die digter se poëtika te probeer omskryf. Dit is ’n geleerde studie, waarskynlik meer bedoel vir die teoloog en letterkundige. Terselfdertyd is dit van enorme belang dat hierdie soort intellektuele bydrae – met ’n aanskoulike bibliografie – ook in Suid-Afrika verskyn en dat dit die seënwense wegdra van die bekende Niek Schuman wat verwys na Nijhoff se gedig waarin die psalms 'n interteks word. Almal van ons is eweneens gevorm deur die psalms en die poësie wat daarin opgesluit lê.

“Vos se beheersing van sy veld is imposant. Hy is ’n gedugte teoretikus wat die leser neem op die intellektuele reis rondom konvensies en hoe alles teoreties benader kan word. Hy verwys ook na sy eie gedig ‘The glass-blower’ onder meer om die liturgie en sy werkinge te probeer verduidelik. Nie alleen verduidelik die digter vir ons iets van sy fabrieksgeheime nie, maar die teoloog verduidelik ook vir die leser hóé konvensies kreatief kan verander. Hiermee distansieer die digter/teoloog hom dan ook van die sinisme wat dikwels by moderne teologie aantoonbaar is, omdat die sogenaamde wetenskaplike metode neerbuigend is oor die wonder van die skepping.

“Die een benadering hoef egter nie die ander uit te sluit nie; om wetenskaplik te dink, beteken nie om kreatiwiteit te minag nie.

“Daar word ook verwys na Peter Brook se bekende uitspraak dat daar in die ‘heilige teater’ sprake is van waar die onsienlike sigbaar word. Volgens Vos kan hierdie uitspraak van toepassing gemaak word op 'n preek waar die teoloog/prediker kennis dra van konvensies. Die skrywer se belesenheid, nie net van literatuurteorie nie, maar ook onder meer van klassieke Griekse tekste soos Antigone, getuig van beleë kennis waarin belangrike verbande vir die leser aangetoon word. Ook die musiek word betrek: Psalm 150 het musikale komposisies geïnspireer soos van César Franck, Benjamin Britten en ander.

“Konsepte soos die anaphora, apodosis, hapax legomenon, en so meer word verhelder. Dit is ook belangrik dat hy die werk van wyle Riempies Prinsloo erkenning gee, hoewel die leser altyd sy dood as ontydig sal bly ervaar. Cas Vos gee tereg erkenning aan TT Cloete se skitterende psalmberymings en boonop is die buiteblad na 'n skildery van Bettie Cilliers-Barnard, Kloosterskildery (1939).”

Na die verskyning van Theopoetry of the Psalms het hy by ’n Koreaanse seminarium in Los Angeles in die VSA lesings gegee. Sy boek is so goed ontvang dat hulle gevra het om dit ook in Koreaans te vertaal. Daar is ’n sterk Presbiteriaanse tradisie onder Koreane en hulle het aanklank gevind by sy gereformeerde aanslag. Hierdie eerste Koreaanse vertaling van sy werk gaan dalk deur ’n tweede opgevolg word. Cas het op versoek van die Koreane ’n seleksie van sy gedigte in Die afdruk van ons hande gemaak wat in Engels en toe in Koreaans vertaal is. Die plan was om ’n bundel die lig te laat sien waarin die Engelse teks naas die Koreaanse teks sou verskyn. (aan Neels Jackson, Beeld, 13 September 2007)

By die bekendstelling van Die afdruk van ons hande het Cas vertel dat hy teen November 2004 ’n manuskrip gereed gehad het wat hy aan Henning Pieterse vir kommentaar gegee het. Pieterse het met die lees van die Gilgamesj-epos besef het dat die manuskrip die potensiaal van ’n baie goeie bundel het, maar hy het vir Cas gesê dat hy vir ten minste nog ’n jaar aan die bundel sou moes werk, maar dat die bundel daarna nog beter sou wees as wat die manuskrip reeds was.

Met die verskyning van Die afdruk van ons hande in 2007 skryf Joan Hambidge (Volksblad, 26 Februarie 2008) dat soos te wagte is van ’n teoloog, die belangrikste verse in hierdie bundel dié was wat met die verhouding mens-God te make het.

“Die verskillende funksies, uiteraard botsend, van die digter en die teoloog word weergegee met ’n slotvers oor die Gilgamesj-epos vertaal en verdig in Afrikaans (die ‘Uruk-fragmente’). Verskillende konvensies word hier ten toon gestel: die himne, die epos, die klaagsang. Dikwels word die sogenaamde ‘outydse’ aanslag gebruik, hoewel die digter eweneens sy hand aan moderne vorme, soos die vrye vers, waag.

“Religieuse poësie in Afrikaans – van Totius, Cloete en IL de Villiers – gee immer die komplekse verhouding tussen mens en God weer. Die digkuns verraai die onstuimige, selfs skeptiese, verhouding met en tot die metafisika. Só gelees, is die digkuns nie net ’n godsdiens sonder hoop nie, maar ’n vergestalting van opstand en teëpraat.

“In die bundel is uitstekende beelde en aangrypende verse. Vir my is daar verse wat nog nie ‘af’ is nie en wat waarskynlik nog ’n tweede, derde herbesinning moes deurgaan. Dalk sou ’n sterker vormbeheer die oplossing wees? Daar is verse wat nog nie die fyn balans tussen die konkrete en abstrakte handhaaf nie. Maar die bestes maak wel op vir die klein insinkings of mindere verse, wat myns insiens woede en opstand kort.

“Die slotvers, te wete die ‘Uruk-fragmente’, gegrond op die Gilgamesj-epos, is ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse digkuns. Daar is ’n eindnota wat vir die leser van waarde kan wees om hierdie klassieke teks te kan ontsluit. Dié historiese agtergrond was vir my noodsaaklik – ook om die herdigting en die relevansie van die titel te begryp. ’n Mens sou ook – as ons ons die luukse kon veroorloof – graag hierdie teks in ’n aparte boek wou sien! (...) Die afdruk van ons hande is ’n toevoeging tot die ryk tradisie van poësie beoefen deur teoloë en religieuse skrywers.”

Volgens NM Taljard (Literator, Augustus 2008) ondersoek Die afdruk van ons hande, net soos Cas se vorige drie bundels, die ordenende metafore, simbole en verhale wat die moderne samelewing rig – die gode wat ons aanhang. “Soos altyd word Vos se verse gekenmerk deur afgeronde struktuur, sensitiewe woordkeuses en ’n diggeweefde tekstuur van intertekstuele verwysings na ander kunstenaars, kunswerke, plekke, gebeure en die mitologie. Stilte en die dood is ook belangrike tematiese materiaal. Die eerste deel van die bundel is grootliks ’n voortsetting en uitbreiding van Vos se vroeër werk waarin ‘gode’ in verskillende manifestasies opduik en saampraat. Daar is ’n sterk religieuse element teenwoordig en baie gedigtitels verwys spesifiek na figure, artifakte, handelinge en tekste wat met spiritualiteit en godsdiens verbind word. Afdeling II bevat liefdesgedigte in alle toonaarde van die liefde.

“Vos se poëtiese verwerking van die sogenaamde Uruk-fragmente in Afdeling IV is om verskeie redes ’n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde en dié enkele aspek wat die bundel laat uitstaan. Die finaal afgewerkte twaalf kleitablette met die Gilgamesj-siklus wat in die elfde eeu vC deur Sin-lege-unninni in die biblioteek van Ninevé neergeskryf is, word allerweë beskou as die eerste oorgelewerde epos wat later deur die digters van die Odussea, die Bhagavad Gita, die Aeneas en die Beowulf nagevolg is. Vos volg in die omdigting min of meer die verloop van die epos soos dit op die Sumeriese kleitablette verskyn. Sy elf ‘Fragmente’ is inderwaarheid fragmentariese omdigtings van geselekteerde dele van die oerteks. Tog slaag Vos merkwaardig goed daarin om die essensie van die oorspronklike in sy beduidend korter gedigteks te konsentreer.

“Ofskoon die Gilgamesj-epos primêr op die beskrywing van die avonture van die epiese held gerig is, kan dit op ’n dieper vlak ook gelees word as lewensiklus vanaf die ongeskakeerde geveg om lewe en dood tot die uiteindelike soeke na onsterflikheid. Die metafisiese aspek van die epos geniet by Vos sterk prominensie en word reeds in die openingsreëls van die siklus opgeroep deur die mistieke handeling waartoe die leser opgeroep word: Skep teen skemer suutjies asem / en doop julle voete in olie / voordat jule na Uruk vertrek. Anders as in die oorspronklike teks waarin die epiese element sterk figureer, het Vos se poësie ’n bykans porseleinagtige tekstuur waardeur die liriese onderbou die hele tyd skyn. Vos se besluit om een van die belangrikste verhale, dié waarin Gilgamesj en Enkidu die monsteragtige Huwawa dood, nie in sy siklus op te neem nie, asook sy onderbeklemtoning van Gilgamesj se handelingspatroon, illustreer sy klem op mitiese verhaalinhoude met ’n argetipiese karakter. So sluit hierdie afdeling, deur sy klem op eksistensiële kwessies, ook ten nouste aan by die bundelproblematiek, naamlik die ‘gode’ na wie se pype ons dans (p 65-68).

“Hoewel kennis van die bronteks nie noodsaaklik is vir begrip van die Uruk-Siklus nie en daar wel ’n kort ‘Agtergrond’ agter in die bundel verskyn, sou ek aanbeveel dat die leser eers vertroud raak met óf die oerteks óf die verhaalmatige weergawe daarvan, aangesien dit beslis die leeservaring verryk en ’n verdigtende funksie op die reeds pragtige poësie het. Vos se sensitiewe verwerking van ’n 5 000 jaar oue mitologiese verhaalgegewe, sowel as sy subtiele aanvoeling vir die ryk geskakeerde menslike ervaring oor die algemeen, maak van hierdie bundel ’n leesavontuur by uitnemendheid.”

Vir TT Cloete is Die afdruk van ons hande Cas se heel beste digbundel tot op daardie stadium, vol opwindende gedigte. Hy beskou ook sy vertaling van die “Uruk-fragmente” as enig in Afrikaans, en alhoewel daar mooi gedeeltes is, behou hierdie verse die klank van vertaling en berus die belangrikheid van Cas se bundel op sy eie, voortreflike gedigte.

By die bekendstelling van Cas se volgende bundel, Intieme afwesige (2009), het sy redakteur, Martjie Bosman, gesê dat die tekstuur van hierdie bundel vir haar is soos dié van ’n laat Middeleeuse tapisserie, of wandtapyt, soos dit op Nederlands genoem word. “Sulke tapisserieë is op ’n weeftou geweef en nie geborduur nie. Die vertikale of kettingdrade was gewoonlik van wol of linne in ’n neutrale kleur waardeur gekleurde drade van wol of sy gevleg is om die voorgrond te vorm. Goud- of silwerdraad is dikwels ook ingeweef vir beklemtoning. Die voorgrond was meestal ’n tafereel met ’n mitologiese, godsdienstige of geskiedkundige onderwerp. Die wandtapyt het meestal ’n sierlike rand gehad met ’n patroon van blomme of loof en by sommiges is klein motiewe soos blomme, vrugte, voëls en diertjies teen die agtergrond ingewerk.” Hierdie tapisserie-beeld is gevorm is deur die struktuur van die bundel enersyds, maar veral deur die weefmotief wat verspreid deur die bundel voorkom.

“Die bundel is gebou rondom die sentrale reeks, ‘Abélard en Héloïse: Tweegesprek’, wat uit twintig gedigte bestaan. Hierdie gedigte vorm as ’t ware die vernaamste fokuspunt van die tapisserie-as-metafoor, die gegewe waarna die leser/kyker se blik telkens weer sal terugkeer, met ander temas en motiewe in die agtergrond of op die rand.

“Alles is egter nie net somberheid nie. Soos in die agtergrond of randpatroon van ’n tapisserie, kan ook ander deurlopende temas en motiewe in die bundel raakgesien word. Hierdie motiewe en temas sluit op verskillende maniere aan by die sentrale tema, die liefdesgeskiedenis van Abélard en Héloïse. Een van die opvallende temas is dié van die skepping van kuns, veral beeldende kuns. Daar is gedigte oor Van Gogh, Michelangelo, die Franse skilder Gerard Hoet, en nie minder as ses gedigte na skilderye van Suid-Afrikaanse kunstenaars Marlene Dumas en Diane Victor nie. Daar is ook gedigte oor musiek en sangers, van Johann Sebastian Bach tot by Katie Melua en Edith Piaf, en gedigte waarin die poësie self aan die bod kom.

“Ek het reeds gewys op die gebruik van die woord ‘donker’ en u kan met die lees van die bundel gerus oplet hoeveel maal dit as motief voorkom, ook in die gedaantes van nag, aand, skadu en skemer. Maar, soos die goue en silwer drade in ’n tapisserie opheldering bring, word die donker in die bundel telkens deurbreek met die sagte lig van sterre, kerse en die maan, enkele kere ook met die son. Intieme afwesige is ’n heg verweefde, ryk bundel.” (Woordkuns-artikels, www.teo.co.za, 22 September 2009)   

Oor die Abélard en Héloïse-siklus vertel Cas aan Johann de Lange op Versindaba dat dit hom ontroer het omdat dit so tydloos is. “Dit is net so aktueel en aangrypend as in die 12de eeu. Intieme afwesige eggo dwarsdeur die siklus. Daar is die pyn, verdriet, verlies, verlange en vreugde (erotiek) van die liefde. Eers op die grafbed lê Abélard stokstyf en doodstil langs Héloïse. Hoe ironies kan die liefde tog nie wees nie! Anders as by Van Wyk Louw, Sheila Cussons en Daniel Hugo het ek die siklus in dialoogvorm geskryf. Iets van ’n teater. ’n Poëtiese praatvers. Astralabe is die liefdeskind van Abélard en Héloïse. Oor die stomme kind is byna niks bekend nie. Al is hy so onbekend, is hy nietemin die toonbeeld van verlatenheid, eensaamheid, verlorenheid, vader- en moederloosheid. Vir hom was sy pa én ma die intieme afwesiges. En hysélf die intieme verlatene. O hemel, dis so eietyds en menslik.” 

Johann de Lange wil by Cas weet hoe sy kontak met mense, deur berading ensovoorts, sy skryfwerk voed. “Sal jy sê dat jou beroep jou in ’n unieke posisie plaas om die menslike kondisie te verken? Jou bundels verken die hele register van pynlike en vreugdevolle ervarings waardeur ons gaan, die aanbidding van vals gode, verlies in sy duisend gedaantes. Maar ook die erotiese, iets waar jy nogal ’n raakpunt het met Cussons vir wie die liggaam juis sintuig word vir geloof eerder as ’n struikelblok.”

Waarop Cas antwoord: “Ek dink dat ek in ’n unieke posisie geplaas is om die menslike kondisie te verken. Maar dis ook ’n pynlike posisie. Ek word ook in die proses verwond, maar hoop om die ander se pyn te help verlig of draagbaar te maak. Dit doen ek onder andere deur te dig. Ek sien en ervaar naas verlies ook vreugde. Dis alles openinge vir gedigte. Die erotiese speel, dink ek, ’n belangrike rol in my digwerk. Doodgewoon omdat dit deel van die menslike bestaan is. Dit kan ook pyn bring, maar meestal is dit borrelende geluk. Ek voel gevlei dat jy opmerk dat ek ’n raakpunt met Cussons het. Ek sou dit nie wou ontken nie. Die liggaam is inderdaad ’n sintuig vir geloof. Ons moet liggaamlik kan glo en leef.”

Vir Johann de Lange het dit hom by die lees van die bundel opgeval hoe elke afdeling nuwe nuanses van die titel belig. “Die intieme afwesiges wissel van ongeborenes tot gestorwenes, van herinnerings tot inspirasie, van mense van bloed en vlees tot mense van ink of verf. Op intertekstuele vlak kan dit verder verbind word met ander tekste, heel dikwels uit antieke tye, wat as ’t ware soos op ’n palimpses aanwesig is.”

Vir Cas is ’n titel soos ’n hartklop. “Jy hoor of die bundel leef. By Van Wyk Louw het ek geleer om ironies te leef en bo alles die liefde te behou (en dis nie altyd maklik nie!). Die titel suggereer ’n teenstelling. Naby en ver. Verlange en liefde, leegte en vervulling, lewe en dood. Af- en aanwesigheid. Hierdie teenstellings loop dwarsdeur die bundel. Daarom is daar dikwels gesprekke tussen gedigte. Hiervan is die Abélard en Héloïse-reeks ’n duidelike voorbeeld. Intimiteit is so menslik. En meestal staan afwesigheid in die weg daarvan. Hierdie kontraste staan voortdurend op gespanne voet teenoor mekaar.”

Cas se bundels se omslae raak vir Johann de Lange toenemend belangriker as sleutels. Verál Die afdruk van ons hande en nou Intieme afwesige. Hy vra aan Cas: “Hoe sien jy die rol van omslagontwerp in die semantiese spel en hoe maak jy vrede met die kompromieë wat gemaak moet word wanneer sakebelange en artistieke visie bots?”

Vir Cas is ’n bundel as geheel ’n kunswerk, ’n skeppingsdaad. “Daarom is die voorblad vir my nie net maar ’n oogvanger nie. Dit is deel van die bundel. Die voorblad gee die leser ’n blik op wat hy/sy kan verwag. Dit dra by tot die verstaan van die gedigte. Dis ’n hermeneutiese sleutel. Maar ook omgekeerd: die gedigte kyk elke keer terug na die omslag. In die geval van Intieme afwesige wou ek ten alle koste die smoke drawing van Diane Victor op die voorblad hê. En glo my dit het nie sonder slag of stoot gegaan nie. My uitgewer het begrip gehad vir ’n waansinnige digter. Maar gode sy dank, nou kan die omslag ’n inslag hê op die gedigte. Weerloosheid, afwesigheid, eensaamheid, broosheid en verdriet hink deur die bundel. En die voorblad wil die leser help om dit raak te sien.”

Uit die aard van sy beroep word Cas dikwels gesien as deel van die religieuse “tradisie” in die Afrikaanse poësie van Cloete, IL de Villiers en Totius. Vir Johann de Lange sluit Cas se poësie nie aan by die mistieke eienskappe van Cussons nie en ook nie by die meer sekulêre aard van IL de Villiers se poësie nie. Daar is vir De Lange ’n groter aangetrokkenheid tot beide die Oosterse en die Westerse tradisies.

Cas voel nogal ongemaklik om homself as deel van enige religieuse “tradisie” te sien. “Dis die etiket van teoloog-wees wat al dié misverstande wek. Natuurlik put ek uit die rykdom van die Antieke wêreld. Ek is dus geen apologeet nie, eerder ’n saboteur. Hiermee bedoel ek dat ek eerder religieuse tekste, in soverre hulle in my bundel voorkom, dekonstrueer. Ek doen dit om saam met eietydse mense te worstel met die raaisels en misteries van die lewe. Voorbeelde hiervan is ‘Die Here is nie my herder nie’ in Die afdruk van ons hande, en ‘Ontheemde’ in Intieme afwesige. Ek voel aangetrokke tot die Westerse én Oosterse tradisies. Albei vind neerslag in van my gedigte. Só ’n benadering maak my oop vir groter wêrelde. Ek dink ons weet so min van die rykdom van veral die Oosterse wêreld.”

Johann de Lange meen Cas se poësie is nie net aan die tegniese kant meer konvensioneel met ’n sterk fokus op vorm, klankbinding en beelding nie, maar daar is ook ’n baie besliste spel met ander digters. Daar is ook verse oor ander kunstenaarsfigure, kunswerke uit die skilderkuns en musiek, reisverse waaruit die digter se liefde vir reis spreek, uitgebreide verwysings na die mitologie en geskiedkundige persone, en verwysings na die Bybel. 

“Hierdie opmerkings raak die hart van my siening van en omgaan met poësie,” was Cas se reaksie op De Lange se uitsprake. “Jou tipering van die landskap en kleur van my verse is só akkuraat. Die steun op die meer konvensionele vers beteken nie dat dit ’n keuse vir geyktheid of bleekheid is nie. Wel vir ’n vorm, ’n patroon. Hiervan is die skilderkuns ’n uitnemende voorbeeld. Diane Victor se smoke drawings het steeds ’n vorm (’n gesig), kyk net wat doen sy met die vorm. Dis amazing. Dit is wat binne die vorm aangaan wat saak maak. Die vorm hou eintlik die perde (metafore, mites, simbole) in toom. Anders ruk alles handuit. Anders gesê: kreatiwiteit en varsheid kan net soos ’n vis in water in ’n vorm lê. In die vorm is daar ook asem, ’n vertelling.

“Die intertekstuele spel is ’n noodwendigheid. ’n Mens moet met jou voorvaders en tydgenote kan gesels. En soms ’n hand uitreik. Want hulle verryk jou eie gedigte. Die Antieke tekste is vol van intertekstuele spel. Ek dink aan die Hebreeuse, Assiriese, Babiloniese, Persiese, Griekse en Latynse poësie, om net ’n paar voorbeelde te noem. En hedentyds wemel dit daarvan. Intertekstualiteit is soos systrome wat invloei in die groot rivier van ’n gedig. Hiervoor is ek nie skaam nie en vra ek nie om verskoning nie. Ander kunsvorme boei my en het ’n invloed op my gedigte. Ek kan my nie ’n lewe sonder musiek en skilder voorstel nie. Dit roep by my klanke, ritme en beelde op. Historiese verwysings kom dikwels in my poësie voor. Die geskiedenis is ’n tradisie. Bybelse verwysings is ook eie aan my gedigte. Net nie te veel tekste nie asseblief! Die vraag wat die leser moet vra is: wat maak ek daarmee?” 

Daniel Hugo (Beeld, 7 Desember 2009) is van mening dat Cas Vos in wese ’n romantikus is. “Dit blyk uit die persoonlike liefdesgedigte met hul rose, rooiwyn en druppende vye. Verder kom die woorde ‘wind’, ‘skaduwees’, ‘skemer’ en ‘droom’ deur die hele bundel voor. Dit skep, benewens versbinding, ’n wekerige romantiese sfeer wat veral in die digreeks oor Abélard en Héloïse die uniekheid en wrangheid van hul verhaal verdoesel. Vos kan pragtige beelde skep, selfs met die oorwerkte woord ‘skaduwees’/‘skadu’s’: ‘Die aand word ’n veilige hawe/ waar skaduwees vasgemeer is’ en ‘Ek moet huis toe gaan/ voor die skadu’s begin lek / en in die pad plasse maak’.

“Tog loop hy die gevaar om in clichés en teatraliteit te verval, soos in dié strofe uit ‘Afskeid’: Oë is geswel van verdriet,/ die stem skor van jammerklag/ vingers stram gewring. Intieme afwesige is ’n boeiende bundel gedigte met ’n ryk verwysingsveld. Dit is, ondanks my stilistiese beswaar, ’n waardevolle toevoeging tot Cas Vos se groeiende oeuvre.”

Cas vertel aan Neels Jackson (Beeld, 29 September 2009): “Ek het aan die begin nog op emosionele impulse geskryf het, maar deesdae is dit baie meer – ek lees op en doen navorsing voordat ek skryf.”

Neels Jackson skryf: “Een van die kenmerke van sy poësie is die vars metafore waarmee hy vorendag kom, soos in die reël ‘Die maan is ’n kloppende sweer.’”

Cas verduidelik dit so: “Dis omdat ek in prentjies dink, maar hoewel iets daarvan altyd in my was, het ook dit gegroei. Aan die begin was daar te veel uitgedinkte, gedwonge beelde, maar nou kom dit spontaan, soos asem. Wat ek wel met elke beeld doen wat by my opkom, is om deeglik daarna te kyk om seker te maak dat dit logies is én dat dit wel vars is. En as ek ’n gedig skryf, voel dit vir my soos ’n geboorte – en net daarna voel dit of ek nooit weer ’n gedig sal kan skryf nie.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 12 Januarie 2010) vind dat die bundeltitel, Intieme afwesige, as motief oral in die gedigte geëggo word om die bundelsamehang te beklemtoon. “Trouens, ’n mens kry naderhand ’n indruk van effense oordaad in hierdie verband. ’n Klompie beeldtroebelhede is aan te stip in Intieme afwesige, plek-plek ook seggingsgesogthede, oortollighede (soos ‘die weemoed van verdriet’) en enkele ander styllomphede. Daar is egter ook heelparty beeldvondste, treffende verlewendigings van geykte segswyses en behendige hantering van klank en verstegniek.

“Word die optel- en aftreksomme gemaak, bly ’n verstewigende bydrae tot Vos se oeuvre oor. Stilisties en vormlik ewenaar Intieme afwesige egter nie die peil van sy voorganger nie.”

In ’n e-pos skryf TT Cloete: “[E]k dink dit is jou heel beste bundel, en bowendien baie mooi uitgegee. Daar staan werklik pragtige dinge in.”

Marthinus Beukes skryf in Tydskrif vir Letterkunde 47(1), 2010: “’n Multidimensionele / heggekonstrueerde / meervlakkige bundel is ’n leeslekkerte. Vos se vyfde digbundel, Intieme Afwesige, word vanaf die bundelomslag tot die laaste gedig, ’n magnum opus wat my as leser boei en geboei het.  (...)

“Met Intieme Afwesige het Vos daarin geslaag om afwesigheid en verlies op talle bestaansvlakke in ’n deurgekomponeerde bundel gestalte te gee.”

In 2010 het Leon de Kock hierdie gesprek tussen Abélard en Héloïse voortreflik vertaal. Die bundeltitel is: Intimately absent. Oor die vertaling skryf Martin Goodman, direkteur van die Philip Larkin Centre for Poetry and Creative Writing: “It’s a powerful book.”

Seker een van die vermaaklikste akademiese opstelle in Afrikaans, en een wat telkens soos ’n stout grap deur die kubberruim aangestuur is, is “Die unieke Afrikaanse ‘fok’” geskryf deur die oorlede taalkundige Johan Combrink. Dit was dié stukkie skrywe wat hom finaal oortuig het om in te stem vir die vertaling van Adam Mansbach se Go the f*ck to sleep, sê Cas Vos.

Vos, digter en afgetrede dekaan van die fakulteit teologie van die Universiteit van Pretoria, moes bontstaan om vrae van joernaliste te beantwoord toe dit bekend geword het dat hy die man agter die Afrikaanse weergawe van dié prenteboek-fenomeen is. F**ken gaan slaap is uitgegee deur Penguin.

Hy het die Engelse weergawe al gesien en gelees en dit baie vermaaklik gevind, sê die oupa van een.

Go the f*ck to sleep, wat as ’n slaaptydboek vir moeë ouers beskryf word, het ’n uitgewersfenomeen geword toe ’n vierde oplaag aangevra is nog voordat dit amptelik op die rak was. Daar is ’n ewe gewilde oudioboek met Samuel L Jackson, en die fliekregte is aan Fox 2000 verkoop.

Dis sy rol as digter wat die keuse op hom laat val het, glo Vos, maar sy rol as oupa wat hom die beste daarvoor toegerus het. Hy verstaan daardie uitgeputte pa se desperaatheid wat hy in kwasikinderlike kwatryne weergee.

“Maar dit is wat prof Combrink oor die f-woord geskryf het wat my die meeste met die vertaling gehelp het. Combrink het onder meer geskryf dié woord is een van die interessantste en kleurvolste woorde in Afrikaans, en een van die min woorde wat die funksie van byna alle woordsoorte kan vervul,” sê Vos.

“Ons is geneig om sekere woorde net tot vloekwoorde te beperk. Woorde is egter veel méér as net vloek. Ek het nogal aan dié woord gedink om my moedeloosheid en teleurstelling uit te druk toe my span in die Curriebeker finaal gaan staan en verloor het! Volgens Combrink is die f-woord ’n towerwoord wat, bloot deur sy klank, vreugde of pyn, liefde of haat, ontdekking of frustrasie kan weergee.

“Die prenteboek bevat veertien kwatryne, wat elk uit drie sagte reëls bestaan voordat die vierde reël voor jou oë ontplof. Vir my was die vraag: Waarom is die vierde reël sonder sterretjies nodig? As dit net om sensasie en skok gaan, is dit sinloos. Die bedoeling van elke kwatryn is egter om die frustrasie van ’n pa uit te druk. Maar dit gee boonop plesier aan die leser om te sien hoe vindingryk die ouer met homself kan praat. Daarom dat ek dié boek as ’n kinderboek vir ouers sien – een met humor en satire.”

En wie sou hy wou hoor in die Afrikaanse oudioweergawe van versies soos hierdie?

Die wind fluister deur die gras, soetlief.
Die veldmuise skuil piepstil by die wal.
Agt en dertig minute is reeds verby.
Ag, fokkert! Kyk hoe laat is dit al.

“Net een,” sê Vos, “Dawid Minnaar.”

In 2011 is sy vorige vyf bundels opgevolg deur ’n keur uit sy gedigte, waarvan sommige geredigeer is. Die bundel is ook aangevul deur ’n aantal nuwe verse en kortliks ingelei deur Johann de Lange, onder die titel Duskant die donker, en uitgegee deur Protea Boekhuis. Die versameling word as ’n aantreklike dubbeldis aangebied, want teenoor elke gedig staan die Engelse vertaling deur Leon de Kock wat ook Cas se vorige bundel Intieme afwesige gedeeltelik in Engels as Intimately absent (2010) uitgegee het.

Oor Cas Vos se gedigte skryf Zandra Bezuidenhout (Die Burger, 18 April 2011) dat Vos se digkuns tot sy reg kom wanneer hy suggestieryk te werk gaan. “‘Koms van die kraanvoëls’ is vanweë die beelding, die sfeer van onuit­gesproke onheil en wisselende ritmiek een van die bundel se bestes. Sodra die digter toegee aan die verleiding van te veel besonder­hede, oorbekende taalgebruik en die verklaring van beelde (soos in die beskrywende ‘Ondergang’), word die segging te direk om die ­leser te ontroer. ­Nietemin is daar soveel positiewe ­aspekte in elke vers dat Vos se ­neiging tot ­na­druklikheid dalk nie alle lesers sal hinder nie.

“Temas wat aan bod kom, is die persoonlike belewenis van die ­liefde, die digtersaktiwiteit en die kunste in die algemeen. Soos van ’n pas afgetredene verwag kan word, raak hy in sy verse ook die kwessie van aftakeling aan. Van antieke tekste tot hedendaagse figure word betrek en die aanslag wissel van nadenke tot sintuiglikheid, waardeur ’n prikkelende verskeidenheid ­gedigte tot stand kom.

“Die ­algemene leser sal genot hê aan Vos se gevoelige skryfstyl, wat ­beskryf kan word as vormbewus met elemente van die vrye vers. Om dit in Engels te herskep was De Kock as digter en bekroonde vertaler goed toegerus. In ’n ­veeltalige land is dit ’n wins dat Vos se tekste nie slegs op ’n ­Afrikaanssprekende lesersgroep gerig bly nie. Die vertaling bring sy eie vondste, en sekere vertaalde gedeeltes staan self sterker as in die brontaal.”

TT Cloete (Beeld, 23 Mei 2011) skryf tereg dat aangesien die gedigte in Duskant die donker bekend is en reeds geëvalueer is, die primêre doel van die bundel dus die vertaling van die gedigte is. “Die vertalings is goed gedoen en vergemaklik dit soms die leesbaarheid van Vos se gedigte. Dit maak die gedigte toegankliker en vereenvoudig die beeldspraak en die soms ongewone woordkombinasies soos tonglok of bibberboud, en talle dergelikes.

“Vos werk nie met gelade metafore nie,” volgens Cloete. “Sy verse is eerder direk beskrywend en sy beelde is eintlik selfverklarend. Waar die vertaler ’n vryer gang gaan, soos in ‘Villanelle for old age’, oortref die vertaling die oorspronklike. Dieselfde geld die vertaling van ‘familiekroniek’, vir Cloete een van Vos se heel beste gedigte, waaraan die vertaler reg laat geskied.

“Die liefdesgedigte, wat duidelik beïnvloed is deur ‘Hooglied’, is minder problematies as die godsdienstige gedigte. Die meer problematiese liefdesgedigte is sterker en beter, en die beste een is ‘Aan flarde’, wat in die vertaling sy waarde behou. Dit is ’n goeie bloemlesing van Vos se werk en die vertaler het daar reg aan laat geskied.”

Cas het die interaksie tussen hom en Leon de Kock, die vertaler, beskryf as: “soos twee bedmaats wat aan mekaar raak en dan is daar so ’n vonkie”. Hy voel dankbaar en  beskeie oor sy digterskap van die vorige 12 jaar. “Dis ’n ambag. Jy groei, jy verfyn, jy ontwikkel jou tegniese vaardighede.”

En ná sy aftrede wil hy hom nog meer toespits op gedigte en ander skryfwerk. “Ek wil mense plesier gee met my poësie sodat hulle die wonder van woorde kan ontdek. Ek skryf my gedigte in die eerste plek vir myself, maar hoop dat dit vir ander ook iets kan beteken.”

En soos Cas hom voorgeneem het, verskyn sy volgende bundel, Weerloos lewe, in 2012 by Protea Boekhuis.

Die leser vind in Weerloos lewe ’n hele paar temas wat ook in die vorige bundels voorgekom het: skeppingsverhale, verwerkings van mites, die geding met die dood, siekte en verval, liefdesverse, beeldgedigte en gedigte oor kunstenaars.

Vir Henning Pieterse (Die Burger, 9 Julie 2012) word daar ’n “somber en morbiede toonaard deur die bundel gevoer, maar tog mond die geheel in ’n mate in lig uit. Daar is ’n handvol gawe verse wat daarvan getuig dat Vos soms ’n suiwer toon kan slaan met ’n eie stem, maar daardie eie stem raak weg tussen ’n groot verskeidenheid ander stemme wat ingespan word in ’n poging om die gedigte te versterk. Die gevolg is ’n soort afgeleide poësie, geleende vere, wat al hoe duideliker uitstaan en beelde wat hulself al hoe sterker herhaal binne die oeuvre.”

Die titel Weerloos lewe is ontleen aan die Nederlandse digter Lucebert, wat gesê het: “Alles van waarde is weerloos.” Dit is ook die motto van die bundel en die teken waarin die gedigte in agt afdelings staan: die digter kyk met deernis na die weerloses en kwesbares en beweeg in die bundel as ’t ware van donker na lig, van die chaos van die begin van die skepping na vervulling en troos. Dit word veral gevind is menslike verhoudings, maar ook in die aanraking van die goddelike in situasies van angs, pyn en ontreddering.

Vir Dewald Koen (LitNet) is Weerloos lewe is in die geheel ’n geslaagde versameling gedigte deur ’n uiters vernuftige digter. Die bundel is tegnies goed versorg en spog met ’n indrukwekkende omslag bestaande uit ’n foto van ’n enkeling wat hom binne ’n groot uitgestrekte ruimte bevind. Die voorblad leen hom tot die titel van die bundel en sinspeel op die weerloosheid van die mens. Die gedigte oor dié weerloosheid is dan ook van die mees geslaagdes, terwyl dié oor bekendes soos Marilyn Monroe en Arthur Rimbaud minder geslaagd is.

Oor die voorblad het Cas aan Amanda Lourens (Versindaba) vertel: “Vir my is die voorblad nie net om aandag van die oog te trek nie, maar dit vorm ’n integrale deel van die bundel. Dit is as ’t ware die eerste gedig. Dit is die sleutel wat die huis oopmaak. Lida [Cas se vrou] het die foto in ’n tydskrif gesien en dadelik gesê: dis die een! Martjie het die fotograaf opgespoor, maar die foto was spoorloos. Izak het meer as twintig foto’s geneem. Die een op die voorblad wat Awie geneem het, was die naaste aan die oorspronklike, maar dit is in wese dieselfde. Die enkelfiguur, alleen, is op pad. Die mens word as eenling gebore en sal so sterf. Dit is ’n donker figuur. Dit is nogal ’n kode in die bundel. In die eerste gedig kom die spel met donker en lig aan die orde. Dis ook die gang van die bundel. Die enkeling loop met verlange en heimwee in die leegte, die oopte en die ruimte. In die verte is daar vaagweg onder mis bedek, bome, lewe. Alles lyk mistig. Dit maak die figuur met sy rug na ons toe nog meer weerloos en kwesbaar. En tog is daar die hoop omdat die son, die lig sal deurbreek en die mis sal laat wegraak.”

En oor die ontstaan van die bundel: “Ek wou van die oer(oor)sprong af met die bundel begin. My oogmerk was om digterlik na te dink oor die begin van alles. Genesis beteken geboorte. Die oorsprongsverhale het my nog altyd gefassineer. Die vraag waarmee die mens in hierdie wêreld aanland, is: Waar kom ek vandaan? Waar kom die wêreld vandaan? Hieroor het ek my nog altyd verwonder. Daar is natuurlik ’n swetterjoel antwoorde. Dis soos wildeganse wat opvlieg. Die natuurwetenskap, die teologie, die filosofie en die mens wat sonder akademiese sorge leef, vra hierdie vrae. Daar is in Genesis twee skeppingsverhale wat deur verskillende outeurs geskryf is. Ek het die twee verhale in een verhaal laat versmelt. Hoe en waarom is ’n uitdaging aan die leser om te ontdek.

“Uit hierdie ontstaan het die bundel spontaan gegroei. Die een moment na die ander het hieruit gekom. Dis was soos branders wat op die strand uitspoel. Daar was ’n wit patroon. Die begin moet na die einde loop. Skepping is in die Antieke wêreld deur onder andere die daad (eerste gedig) en die woord (slotgedig) beskryf. Ek maak ook van die siening van die skepping gebruik.”

In 2012, terwyl Cas volstoom besig was om aan sy volgende digbundel te werk, is sy skootrekenaar waarop hy gewerk het, uit sy studeerkamer gesteel. Hy was só desperaat dat hy uitgeroep het: “Ek sal nooit weer kan dig nie!”

Hy wou ’n paar dae voor die diefstal die manuskrip met die aanvanklike titel Swaels kom dié jaar later elders stoor, maar het nooit so ver gekom nie. Hy het weergawes van ’n paar gedigte op papier gehad en ongeveer 20% van die manuskrip het hy aan letterkundiges gestuur vir kommentaar, maar die res sal hy nooit kan oorskryf nie: “Ek voel soos iemand wie se tonge afgesny is,” het hy aan Neels Jackson (Beeld, 22 Junie 2012) vertel.

Maar gelukkig vir Cas se lesers het hy nie gaan lê nie. Dit het alles weer aan die gang begin kom met ’n voorstel van ’n vriend dat hy ’n brief aan die dief skryf. Hy vertel aan Neels Jackson (Beeld, 23 Julie 2012) dat hy weggetrek het en vir ses dae aanmekaar geskryf het – aanvanklik met pen en papier (in ’n handskrif wat maar moeilik leesbaar is), totdat hy ’n nuwe skootrekenaar gekry het. Hy het sy digbundel oorgeskryf en was van mening dat dit beter is as die een wat saam met die rekenaar verdwyn het.

“Brief aan die rower” was die aanloop tot ’n hele afdeling en begin met twee reëls wat die gedagtes weergee wat sy vriend voorgestel het: “Ek volg ’n spoor ’n duisend dae, só skryf ek my rower agterna.”

Die gedig het dan ook plek gekry in Cas se volgende digbundel, wat in 2013 verskyn het, Duisend dae op jou spoor, wat by Hond uitgegee is.

In ’n onderhoud met Zandra Bezuidenhout oop Versindaba vertel Cas meer oor die drieluik “My rower”: “Natuurlik roep die drieluik die inbraaksituasie in herinnering. Ek het nog gebloei na die wond toe Coenie de Villiers my uit Ciprus bel, met: 'Cas, ek en Ria is baie dankbaar dat julle nog leef. Moenie in die hoekie gaan sit en treur nie (ʼn hoekie kan maklik ’n ashoop word, soos in die geval van Job). Begin en skryf ’n brief aan jou rower.' Sonder rekenaar het ek dit met my linkerhand wat onleesbaar krap, gedoen. Ek het letterlik ses dae op papier geskryf en die gedigte later op die rekenaar oorgetik. Die pynlike en tragiese is dat die rooftog ’n opdrag van iemand was. Miskien moet die rower my weer besoek. Maar die reeks het ’n afdruk op die bundel geplaas. Dit hang soos ’n metafoor oor die hele bundel. In die derde gedig gebeur die ongehoorde (p 17). Ek vergeef die rower. Die gedig is vol humor, ironie en intertekstuele spore (dink aan die ou Halleluja-liedjie: 'As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels'). Jesus en die rower in dieselfde asem!”

Vir Charl-Pierre Naudé (Beeld, 17 Junie 2013) was Duisend dae op jou spoor ’n ietwat teleurstellende bundel wat nie sou voldoen aan die verwagtinge wat die leser van Vos verwag nie – nie net ten opsigte van die gedigte nie, maar ook ten opsigte van die publikasie. Daar is foute in die redigering wat pla en wat daarop dui dat ’n sterker hand daar aanwesig moes gewees het.

Vir Naudé is een van die eienskappe van Vos se poësie ’n “sterk ritmiese, maar informele, praatagtige styl. Hy gebruik alledaagse omgangstaal waarin selfs sleng- of gonswoorde of naamverwysings uit die populêre kultuur kan voorkom. Die kombinasie hiervan met klassieke invloed uit die volksballade of die sonnet wat hy juis op ’n on-klassieke manier inkorporeer, gee aan sy poësie ’n sekere beslag. Hy sal byvoorbeeld herhaling van frases of amperse herhalings gebruik wat herinner aan die refrein van ’n ballade, maar dan in die konteks van ’n narratief oor ’n hedendaagse verlies, of oor ’n familieherinnering binne die verband van verganklikheid in die nuwe Suid-Afrika.

“As dit suksesvol is, resoneer die kontekste gelyklopend. In die nuwe bundel skep die twee strydige geure egter meermale ’n indruk van olie en water wat nie vermeng nie, soos die verwysings na klassieke komponiste in 'Brief aan my rower' wat bots met die banaliteit van die tema.”

Daar is egter gedigte met “pragtige of geslepe reëls” in die bundel, skryf Naudé. Maar dit kan ongelukkig die gedigte in die geheel gesien nie red nie. ”Die bundel moes oorgestaan het totdat die rypheid van die aangehaalde reëls en gedigte, die bundel as geheel kon kenmerk.”

In Tydskrif vir Letterkunde (2014) is Fanie Olivier die resensent van Duisend dae op jou spoor: “Cas Vos se sewende digbundel, Duisend dae op jou spoor, bevat elemente van al daardie dinge wat reeds kenmerkend geword het van sy poësie: die geding met, en die oorgawe aan God en die goddelike, die verkenning van die klein aardse dinge (ook binne verband met die eerste), die seerheid van die dood, omgang met musiek en ander skrywers, veral ook die klassieke. En die liefde binne en rondom alles. Die bundel bestaan uit 58 gedigte, waarvan een, 'Tristan en Isolde', oor 15 bladsye loop en ’n afdeling op sy eie uitmaak. Die res van die gedigte word verdeel in ses tematiese afdelings, van wisselende omvang, terwyl die gedigte self ook strek vanaf kwatryne tot die langerige vertalings van dele uit Homeros se Die Odusseia. (...)

“Duisend dae op jou spoor is ’n goed gekomponeerde bundel wat deur kruisverwysings en herhalings ’n duidelike eenheid vorm. Deur die vertalings uit Homeros en die Tristanteks(te) verruim Cas Vos die Afrikaanse poësiewêreld en bevestig hy hoe letterkundes by mekaar aansluit in ’n spoor wat oor duisende jare loop. Aan die ander kant is daar egter te min gedigte wat as poësie bly staan: ongemotiveerde rymsegmente (dis nie die verskynsel nie, maar die wyse waarop), formulerings wat te bekend is, stellings eerder as ver-beelding, en te veel ritmiese storings binne die praat- of vrye vers waarvoor die digter kies. Dalk moet die digter met meer huiwering omgaan met sy gedigte: sewe bundels in veertien jaar is besonder produktief, maar kan ook in die teken staan daarvan dat dinge net te maklik kom. (...)

“En terwyl ek geweldig dankbaar is dat Tienie du Plessis se Hond weer begin blaf op die Afrikaanse uitgewerswerf, is die vraag of hierdie bundel by ’n ander gevestigde uitgewer kans sou gestaan het. Altans so, sonder deeglike redigering. Daar is te veel dinge in Duisend dae op jou spoor wat afbreuk doen aan ’n goed gevestigde oeuvre, te min dinge wat ’n mens by die lees tot stilstand ruk.

“Maar vir iets soos die volgende kan jy tog baie vergewe:

Vroeg torring die dag se nate los
en sien ek die skepping se letsels:
Berge met boggelrûe,
bome met hangskouers.
Die wind se bors is vol slym (38).”

In 2015 verskyn Cas se negende digbundel by Protea Boekhuis onder die titel Voor-bode. Die leser word reeds deur die bundeltitel voorberei op die belangrikste temas van die bundel, naamlik ”onheil en boodskappe/boodskapper”, skryf Elbie Adendorff op LitNet.

“’n 'Voorbode' is ’n onverklaarbare gevoel van onheil wat dikwels deur mense as ’n bonatuurlike verskynsel ervaar word. Dit is ook ’n voorteken, ’n voorspelling. Maar 'voor-bode' verwys tweedens na eerste draers van boodskappe of die 'voorste' bode wat daar is.”

In Voor-bode is daar 124 gedigte wat in sewe afdelings ingedeel is. Vos se Christelike gedigte kom veral in die tweede en die sewende afdelings voor. Vir Adendorff kon die inhoud van die bundel baat gevind het by die snoeiskêr wat beter ingelê kon gewees het sodat die belangrikste temas, asook  die minder belangrikes, beter uitgelig kon word.

Daar is ook etlike vertalings van werke van die Griekse digters Konstantinos Kavafis en Giorgios Seferis in Voor-bode. Hulle verskyn nie in ’n aparte afdeling nie, maar is verweef tussen Vos se eie gedigte – “wat ’n ander dimensie van intertekstualiteit en ’n wyer wêreldbeeld aan die gelokaliseerdheid van Vos se gedigte bied. So maak die Afrikaanse leser kennis met hierdie Griekse digters. Verdere kennismaking vind plaas in die aantekeninge wat Vos agter in die bundel opneem. Sodoende word ’n ander historiese en kulturele wêreld aan die Afrikaanse leser bekendgestel.”

In Voor-bode raak Vos ook betrokke in ’n intertekstuele gesprek rondom die digkuns en kreatiwiteit. In hierdie gedigte verwys hy na Mozart en digters soos Keats, Cussons en Yeats. Vir Adendorff staan die gedig “Voor-skrywers” uit. Hierin lewer die digter ’n tipe huldeblyk aan Afrikaanse digters soos Van Wyk Louw, Peter Blum, IL de Villiers en Marlene van Niekerk. In die laaste strofe belig hy sy eie plek in die Afrikaanse digkuns.

Vos gebruik ook eietydse gebeure in Suid-Afrika en die res van die wêreld as inspirasie vir sy poësie – veral in gedigte soos “Marikana”, “ISIS” en “Mespunt” – laasgenoemde oor die afskiet van ’n vliegtuig in die Oekraïne. Adendorff beskou die bundel as ’n “moet-lees” vir diegene wat lief is vir poësie.

Net soos kritici gemeen het dat ’n sterker redakteurshand nodig was by die keuring van die inhoud van Duisend dae op jou spoor, meen Bibi Burger (Volksblad, 16 Mei 2016) dat dit ook met Voor-bode moes gebeur het. “Die vernuwende en meesleurende gedigte word omring deur swakkeres en word belemmer deur enkele lastige geykte en sentimentele frases.”

Vir Burger was die strategie om die vertalings van gedigte tussen Vos se eie gedigte te plaas, interessant: “Aan die een kant beteken dit dat, soos Bernard Odendaal beweer in sy resensie op Versindaba, Vos se gedigte sleg vergelyk met die subtiliteit van veral Kavafis se werk. Aan die ander kant beteken dit dat ’n interessante gesprek plaasvind tussen die verskillende digters se werk.”

Cas se volgende digbundel, In ’n oomblik, verskyn in 2017 by Naledi. En vir Joan Hambidge (Rapport, 12 Februarie 2017) is die belangrikste bydrae van hierdie bundel die herdigtings van Kavafis en Seferis se poësie.

Terwyl daar ander Afrikaanse digters is wat hierdie digters al na Afrikaans getransponeer het (Johann de Lange, Hambidge self, Uys Krige en Dian Joubert), het Cas Vos die voordeel dat hy direk uit die oorspronklike Grieks kan vertaal.

Maar, skryf Hambidge, “steeds moet ’n gedig egter in die nuwe taal as gedig oortuig. Dit gebeur oortuigend in 'Die siele van die ou mans'. Die bundel bevat belangrike endnote oor die digters wat vertaal is en Auden se bekende uitspraak oor die probleme rondom vertaling.

“Volgens Auden kan interne alliterasie, vergelykings en metafore behou word; liriese komponente, homofoniese assosiasies, en ritme staan aan die verloorkant. Vos se kennis van Grieks kom nuttig te pas en die vertalings van hierdie twee digters is ’n bydrae tot die vertaalkuns wat veral deur MM Walters geboekstaaf is as redakteur van puik bloemlesings.”

Maar Hambidge het voorbehoude wanneer dit by Vos se eie belewenisse kom. Vir haar kom die “ou hebbelikhede” weer na vore: “sentimentaliteit, lawwe beelde, gedigte wat tegnies en dus nie vormlik afgerond is nie, rymdwang, verkapte prosa, woordoordaad, die verhewe aanslag, ensomeer [sic]. (...)

“Die lofuiting vir hierdie bundel wat verwys na sonderlinge poëtiese vondste (in die publisiteitsnotas), oortuig nie. Die kritiek het nou al by herhaling sekere mankemente uitgewys en ’n mens wil nie hamer op dieselfde besware nie. Dis net jammer dat iemand met soveel kennis van die klassieke, verval in ’n bundel wat nie deurgekomponeer is nie. (...) Daar is net te veel verspeelde kanse en gedigte wat nie verby ’n eerste uitgawe kom nie. Hierdie gedigte is lekkende siwwe soos die digter iewers oor sy niere skryf.”

Ook Tom Gouws het op Versindaba sy bedenkinge oor In die oomblik uitgespreek: “Op die keper beskou gaan dié laatwerk van Cas Vos totaal mank aan wat iemand soos Martinus Nijhoff misère genoem het. ’n Tema soos hierdie vra ’n beslaggewing van wat Derrida en Kristeva met melancholia bedoel het, of wat Friedrich Schelling Schwermut noem, maar dié denkmodus of perspektief ontbreek grootliks. Wat Vos wíl vasvang in woorde word nie deur ’n gedrae emosionele diepgang gevoed nie.

“Die agterblad van die digbundel beslaan ’n uitvoerige stukkie teks deur die uitgewer, hopelik nie die keurder nie, wat Vos se bundel en werk probeer takseer. Ek is oorgevoelig oor hierdie tipe bemarking, want dit kan maklik ’n albatros om ’n bundel se nek wees. In hierdie geval is dit grootliks die geval. Die agterplat is swak en ondeurdag geskryf, en veral die gebruik en toepassing van literêre terme doen vreemd en meganisties aan:

“'In ’n oomblik' toon die hand van ’n ervare digter wie se poëtika reeds gevestig is in terme van temas en tegnieke. Die digbundel verteenwoordig ’n voortsetting van dié aspekte van Vos se digkuns waarvoor hy reeds lof verdien het. Op tegniese vlak is daar veral sy baie effektiewe gebruik van ’n onpretensieuse toon wat dikwels sonderlinge poëtiese vondste oplewer. ’n Voorbeeld hiervan is die nuutskepping ‘die slinkshandige’. Tegniese vernuwing vind ook plaas deur die aanwending van die epiese gedig en die tersine. Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.

“Tydens die reis kom daar fel en verskillende emosies en ervaringe na vore. Dit word alles met die leser gedeel. Die tematiese nuutheid en aktualiteit van die bundel blyk uit die digterlike uitbeelding van die menseslagting op 13 November 2015 in Parys en vlugtelinge uit Sirië se bootreise na ’n heen­kome. In die bundel kom daar diep emosies na die oppervlakte. Alles gebeur in ’n oomblik. Op die lewensreis word verskillende emosies ervaar: lig en donker, liefde en ongeluk, geboorte en die na-lewe. Die tema van verganklikheid en ouer-word is sentraal in die bundel. Die lewensreis is ook ’n taalreis. Daarom word die taalgesprek, in ’n boeiende saampraat met Konstantinos Kavafis, poëties uitgedruk. Op die leefreis is daar ook verlies. Hier kom Cas Vos se vertalings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se Griekse gedigte aan die [sic] bod. Die reis eindig egter nie in wan­hoop nie, maar met uit-sig.

“Die bundel word geen guns gedoen met hierdie soort slordige skryfwerk nie. ’n Mens sou ’n lang essay kon skryf oor die uitgewer se twyfelagtige uitsprake, lomp formulerings en gebrekkige styl soos dit hier uitgestal word. Trouens – ek meen Naledi het die digter grootliks gefaal om nie enigsins hierdie teks noukeurig af te rond nie. Daarvan getuig ook die onaanvaarbare hoeveelheid taalfoute wat in die bundel voorkom. (...) Dit pla baie as daar byvoorbeeld in die aantekeninge staan: '’n Meester soos Kafavis stel hoë eise van die vertaler.' [sic]. En ook: 'Sy gedigte is deurdring van die antieke wêreld.' [sic].

“Nadat ek hierdie digbundel ’n paar keer gelees het, en ook weer my vorige resensie van ’n Cas Vos-teks onder oë geneem het, het ek aan hierdie woorde gedink wat in sy bundel Voor-bode, in die gedig: ‘’n Ou man’, staan:

... Elke ver-
speelde oomblik
tart nou sy sinlose wysheid ...

Hier is in dié bundel helaas te veel verspeelde oomblikke.”

Tussen al sy eie digwerk het Cas ook tyd gekry om van 2014 tot 2018 werke van Homeros en Dante Alighieri in Afrikaans te vertaal en te laat publiseer. In onderskeidelik 2014 en 2015 word Fragmente uit die Ilias (Protea Boekhuis) en Fragmente uit die Odusseia (Cordis Trust) uitgegee.

Oor sy fassinasie met Homeros en veral die Ilias vertel Cas aan Gerda de Villiers (TEO) dat Homeros hom nog altyd bekoor en aangetrek het. “Die eerste keer wat ek van Homeros gehoor het, was toe prof Adrianus van Selms, by wie ek Hebreeus geleer het, groot dele van Homeros uit sy kop opgesê het. Dit het ’n blywende indruk op my gemaak. Toe ek ontdek dat die Ilias ’n afdruk op soveel Nobelpryswenners gemaak het, het ek van die gedigte, veral dié van Konstantinos Kavafis uit Grieks vertaal. Ek het toe besluit om Fragmente uit die Ilias te vertaal. Die rykdom Griekse metafore was net ’n te groot versoeking vir ’n digter.

“2014. Honderd jaar gelede het een van die bloedigste oorloë in menseheugenis hekatombe op hekatombe in die veldere van Vlaandere gevul. Daar is altyd redes vir oorlog. Maar die mens wat sy lewe verloor, wat liefhet en ly en stink van vrees, word te maklik vergeet. Dit is ook die hartslag van Homeros se epiese gedig, die Ilias. Die lieflike listige Helena word deur Paris na Troje ontvoer, en die hel is los. Die leser maak kennis met wraak, haat, liefde en begeerte, vriendskap en deernis, hubris van heersers en die dood van mense. Daar is ’n menigte twistende gode wat mense se diens en offers vra en hulle swakhede uitbuit. Die skrikwekkendheid en afsku van oorlog het nie opgehou nie. Dink net ’n oomblik aan die Oekraïne en Sirië. Mense word onthoof (letterlik en figuurlik). Gode is steeds onder mense bedrywig. Die Ilias herinner ons aan die grondmetafoor van ons bestaan, naamlik stryd (om oorlewing). 

Cas moes eers die lang epiese gedig onder die knie kry, vertel hy aan De Villiers, en dit was moeilik. Hy het letterlik met die Ilias  onder sy kopkussing geslaap. Vanselfsprekend was dié een groot uitdaging om “Grieks te leer om Afrikaans te praat. Ek wou dit ook in digvorm doen.” 

Dit het veroorsaak dat hy ’n soektog op tou moes sit na woorde, idiome en digterlike vorme in Grieks. “Die wins en opwinding is dat die Griekse teks in die vertaling ’n nuwe lewe kry, ’n ander vorm sonder om die metafore van die Grieks prys te gee. Vertaling van die Griekse teks moet die wêreld en skatte van die bronteks vir die leser nader bring sonder om dit te verinheems na die bekende tyd en plek van die leser.

“Verder wou ek die verhaallyn behou. Ek het fragmente gekies wat die verhaal laat vloei en waarin die hoofkarakters soos Achilles, Agamemnon, Helena, Andromache, Paris, Hektor, Hephaistos, Menelaos, Patroklos en Sarpedon voorkom. En dan is daar ook nog die gode, Zeus, Hera, Apollo, Poseidon en Hermes, wat met mense se koppe smokkel en in die oorlog kant kies. Vir die Trojane of vir die Grieke. As die gode eers inmeng, spat die vonke. Hera vra Slaap om Zeus te bedwelm sodat sy liefde met hom kan maak. Verbeel jou die stuitigheid!

“JPJ van Rensburg het 62 jaar gelede die Ilias en Odusseia in Afrikaans vertaal. Dit was ’n letterlike vertaling, woord vir woord. Die poëtiese krag gaan egter verlore. Sy vertaling was veral om didaktiese redes belangrik. Ek wou dit nie so doen nie.

“Ek het ’n proloog en epiloog geskep. Strofes uit die proloog maak dit duidelik waaroor die Ilias gaan:

In dié verhaal word die aarde met bloed versadig;
mense en gode sal hulle in haat en afguns verlustig.
Elke dag sal ’n treurende wond wees –
o gode, oorlaai die Trojane tog met vrees.
Gode sal in paleise wyn in goue bekers skink
en laggend, dansend tot die son sy kop lig, drink.
Dit alles word vertel met die klankweelde
van Grieks, wewer van nuwe woordbeelde.

“In die epiloog het ek ’n gedig van Kavafis oor Sarpedon se begrafnis uit die Grieks vertaal. Ek het ’n gedig oor Helena geskryf. Ons kan Helena tog nie vergeet nie.”

Op Netwerk24 (6 November 2014) vertel Cas Vos aan Willem de Vries dat die mens sonder Homeros arm is. “Die twee groot eposse van Homeros word allerweë as tydlose tekste beskou, tekste wat vandag nog deur almal gelees behoort te word. Die groot invloed van Homeros op die Atheense en in die algemeen op die Griekse paideia (opvoeding) was sonder teëspraak. Soos die slagspreuk van uitnemendheid wat deur die Ilias geïnspireer is: 'Mag jy altyd uitmunt en bo almal uitstyg.' Hierin kan Homeros die leser help.”

Op die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit se webwerf skryf Susan Smith dat Vos met hierdie vertaling die wêreld van die klassieke letterkunde vir die leser oopmaak. ”Vos se teks is egter soveel meer as ’n vertaling. Dit is ’n omdigting van die oorspronklike teks waarin die leser nie net die gedigte self nie, maar ook ’n besinning kan vind oor die prosesse wat betrokke was by die vertaling.

“Voorts maak Vos die verse toeganklik deur ’n inleidende hoofstuk waarin hy waardevolle konteks vir die tekste verskaf, byvoorbeeld die wêreldwye invloed van Homeros se werke, kwessies oor outeurskap, die plek van die Ilias en van Homeros in die Afrikaanse poësie en die wát en hóé van die Homeriese versmaat. Ook die verhaalagtergrond word ingevul, wat die werk uiters toeganklik vir die leser maak. Al hierdie navorsing word vergesel van bronnelyste wat dit vir die speurende leser moontlik maak om self verder te delf. (...)

“Met hierdie bundel lewer Vos ’n besonderse bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en, in sy eie woorde, is 'Afrikaans ’n vasmeerplek waar die Griekse skip met sy Ilias aan boord ’n tuiste op Afrikaanse bodem kan vind' (bl 39).”

In sy bespreking van Fragmente uit die Odusseia skryf Chris van der Merwe op LitNet: “Tereg haal die vertaler die bekende spreuk aan: 'traduttore, traditore' (vertaler, verraaier). Want dit is onmoontlik om in ’n vertaling die oorspronklike teks presies weer te gee, en elke keuse wat ’n vertaler maak, mag wel winste oplewer, maar gaan onvermydelik met verliese gepaard. Dit is ook die geval met die keuses wat Vos gemaak het. Ek het sy vertaling van fragmente uit die Odusseia  met die volledige, brongetroue vertaling van JPJ van Rensburg vergelyk om die winste en verliese van die twee teenoorgestelde benaderings te probeer peil. Elkeen het sy voor- en nadele, maar Van Rensburg se vertaling kom myns insiens die beste af in hierdie vergelyking. (...)

“Cas Vos se vertaling is moontlik meer leesbaar as Van Rensburg s'n, maar sy vrye omgang met die bronteks bring besliste verliese mee. Hy strewe daarna om die vertaling in ʼn toeganklike Afrikaans weer te gee, maar om tegelyk die verhewe Griekse sfeer te behou. Dit lei myns insiens soms tot stylbreuke. (...) Om die ontwikkeling van die verhaal te versnel, word ’n hele aantal gedeeltes verkort of uitgelaat; dit lewer sekere winste op, maar soms is daar ook ’n verlies aan dramatiese krag. (...) ’n Veel groter probleem met die vertaling van Vos is dat verkorting van die bronteks dikwels lei tot onduidelikhede en onjuisthede. (...)

“Samevattend: Die inleiding tot Casper Vos se vertaling is insiggewend, maar die vertaling self sou baie baat gevind het by ’n groter noukeurigheid en ’n groter respek vir die bronteks.”

Haar bespreking van Cas se vertaling van La Divina Commedia van Dante sluit Gerda de Villiers hiermee af: “Digters wat hulself aan ’n vaste rymskema en ritme bepaal, loop altyd die gevaar om in rymdwang te verval: Cas Vos doen dit beslis nie. Die goddelike komedie is vars en nuut, hoogs leesbaar en die keuse van woorde is oorspronklik en sensitief. En uit die bespreking hierbo, is dit duidelik dat die mistieke ervarings van Dante behoue gebly het. Die subtiele sinspelings op Afrikaanse mistieke digters, soos Cussons, is besonder kunstig gedoen. Alhoewel dit nie ’n letterlike vertaling van La Divina Commedia is nie, bly Vos tog getrou aan Dante, maar nuanseer hom op ’n eietydse wyse. Die goddelike komedie slaag uitmuntend daarin om La Divina Commedia uit die Middeleeue te gaan uithaal, en dit lewendig en in Afrikaans in die 21ste eeu te laat sing.” (Gaan hier vir ’n volledige bespreking.) 

Marlies Taljard resenseer op Versindaba Cas se vertaling Il Paradiso van Dante Alighieri en sy sluit af: “Nou kan die leser dalk vra in welke mate die antieke teks nog tot die moderne mens spreek. In eerste instansie moet verstaan word dat die Divina Commedia nie in eerste instansie ’n spirituele teks wou wees nie. In die verhelderende aantekeninge wys die skrywer daarop dat die gedig '’n getuienis van Dante se politieke betrokkenheid' is. Destyds, net soos nou, was politici korrup – ook die Kerk se amptenare. Pous Bonifacius VIII was die teiken van Dante se kritiek, veral in die Inferno. Met die Paradiso wou hy die volmaakte staat op aarde uitbeeld aan die hand van die hemelse heerlikheid. Sy argumente is vandag nog net so geldig soos destyds en sy beelde, voorstellings en ervarings nog net so aangrypend. Uit Canto XI kom die volgende strofes wat net sowel vir ons omstandighede geskryf kon wees:

O dwase ambisie en eersug van ’n sterfling,
hoe ydel is die retoriek wat meebring
dat julle vlerke jul tot afwaartse vlugte dwing!
Een soek aforismes op, ’n ander die wet,
ander weer heers deur geslepenheid en geweld,
nog ’n ander gebruik vir selfgewin gebed,
deur plundering of deur onheilige weë;
en hunker steeds na die vlees se genieting,
terwyl ’n ander hom tot ledigheid oorgee.

Hierdie kundige vertaling waarin die vertaler daarin slaag om die gees van die antieke gedig aan ’n Afrikaanse gehoor oor te dra, behoort op die boekrak van enige ernstige Afrikaanse leser te pryk.” (Hier is die volledige resensie.)

In 2017 ontvang Cas die Orde van die Goue Pen van die Cordis Trust vir sy uitnemende bydrae tot Afrikaans deur die teologie, die digkuns, die Liedboek van die kerk, vertalings van fragmente uit die Ilias en die Odusseia, La Divina Commedia en sy poëtiese en insigryke perspektiewe op die Psalms in God die groot digter.

Publikasies:

Publikasie

Anderkant die graf: wat ons weet van die lewe ná die dood

Publikasiedatum

1987

ISBN

(sb)

Uitgewers

Wellington: Bybelkor

Literêre vorm

Lidmaattoerustingsprogram

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Op soek na die sin van die lewe

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798705183 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Orion

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

God is ons lyding. Saam met Julian Müller

Publikasiedatum

1990

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Orion

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Menswaardig. Saam met Julian Müller

Publikasiedatum

1994

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Orion

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die volheid daarvan. Deel 1 en 2

Publikasiedatum

1998

ISBN

 

Uitgewers

Pretoria: RGN

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Andrew Murray-prys 1999 Pieter van Drimmelen-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2001

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vuurtong

Publikasiedatum

1999

ISBN

1868921077 (hb)

Uitgewers

Clubview: Benedic Boeke

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gode van papier

Publikasiedatum

2001

ISBN

191982538X (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Enkeldiep

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190378 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Theopoetry of the Psalms

Publikasiedatum

2005

ISBN

9781869190989 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Koreaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Hand vol wind: die stem van die Prediker

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780796305282 (sb)

Uitgewers

Wellington: Lux Verbi BM

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde is die grootste: oor erotiek en seksualiteit. Saamgestel saam met Dirk Human

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781860191603 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Seksualiteit

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die afdruk van ons hande

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191771 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hoe kan ek jou laat los? God se liefde vir wegloopmense in Hosea

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780796307491 (sb)

Uitgewers

Wellington: Lux Verbi BM

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die genesing van herinneringe. Saam met Daniël Veldsman

Publikasiedatum

2008

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Populêre sielkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

God in ’n kantelende wêreld. Redakteurs Cas Vos en F Gerrit Immink

Publikasiedatum

2009

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Intieme afwesige

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869191771 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Leon de Kock 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duskant die donker / Before it darkens. Met vertalings deur Leon de Kock

Publikasiedatum

2011

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Weerloos lewe

Publikasiedatum

2012

ISBN

 

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duisend dae op jou spoor

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781874969198 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Hond

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dáárom glo ek!

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780864877741 (sb)

Uitgewers

Wellington: Bybel Media

Literêre vorm

Godsdienstige lektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voor-bode

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781485305422 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

God die groot digter

Publikasiedatum

2016

ISBN

(sb)

Uitgewers

Pretoria: Cordis Trust Publikasies

Literêre vorm

Godsdienstige lektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In ’n oomblik

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780928316445 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Cas Vos:

Cas Vos as redakteur 

  • Liefde is die grootste: oor erotiek en seksualiteit. Saam met Dirk Human. Protea.
  • Vaste rots op wie ek bou. Saam met Dirk Human. Lux Verbi, 2014 [ISBN 9780796312075 (sb)] 

Cas Vos as samesteller

Huldigingsbundel aan Cas Vos

  • Oor jou afdrukke: met waardering vir Cas Vos se teologies-poëtiese bydrae. Redakteurs: Dirk Human en Danie Veldsman. Pretoria: Universiteit van Pretoria, 2012 [ISBN 978-1-86854-982-5 (sb)]

Artikels oor Cas Vos op die internet

Artikels deur Cas Vos op die internet

  

Terug na bo

Bygewerk: 2019-08-01
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za

 

The post Cas Vos (1945–) appeared first on LitNet.

Harry Kalmer (1956–2019)

$
0
0

Gebore en getoë

Harry Kalmer is op 21 November 1956 in die Hansa-kliniek in Bellville gebore, die vierde kind van Kenneth Laurence Kalmer, ’n elektrotegniese ingenieur, en Johanna Christina Steyn. Drie jaar later vertrek die gesin na Johannesburg en in 1963 begin Harry sy skoolloopbaan aan die Florida Laerskool. In 1970 is hy na Florida Hoërskool, waar hy in 1974 matrikuleer. In sy hoërskooljare “blink (hy) uit as slapgat en skelm roker, ontdek teater en wen redenaarsbeker”, om hom self aan te haal. In 1973 skryf hy sy eerste toneelstuk.

Verdere studies en werk

Na skool gaan Harry na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1979 sy BA-graad verwerf met Afrikaans en Dramakunde as hoofvakke. Gedurende hierdie tyd gaan hy na Amerika, waar hy die land per bus deurreis. Na sy studies in 1980 meld hy hom aan by die Weermag en spandeer hy dertien maande op die grens as luitenant.

Harry werk onder meer as treindrywersassistent, spoorwegklerk, vertaler/leksikograaf, kopieskrywer, arbeider in Griekeland, skottelgoedwasser in Londen, blommeplukker in Cornwall, ’n relatief suksesvolle dramaturg en ’n teaterregisseur wannabe.

In 1981 ontmoet Harry vir Sanpat Hattingh, ’n mode-ontwerper, en in 1983 trou hulle. Hulle het twee kinders, Daniel (14) en Jana (10).

In 1982 word sy eerste kortverhaal, "Man wat deur ’n opblaasmatras vermoor is", in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer en in dieselfde jaar begin hy skryf aan X-Ray Visagie en die Vingers van God. Niemand is egter bereid om dit te publiseer nie.

Harry begin dan in alle erns skryf aan sy dramas. In 1984 word Bloed in die strate (176 interviews for television) deur Jacqui Singer vir TRUK opgevoer. Hierdie stuk veroorsaak die eerste en enigste ernstige geveg met sy ouers, omdat die karakters te veel f** gesê het. In 1985 word die stuk ook in die Markteater in Johannesburg opgevoer. Ook in 1984 skryf Harry Piet Joubert en die Boer War Show en Die val van Pretoria. Eersgenoemde is die naaswenner van die Amstel Awards en laasgenoemde ’n finalis in die Sakruktoekennings. In 1986 word die drama Hartland in die Baxterteater in Kaapstad opgevoer onder regie van Marcel van Heerden.

In 1984 maak Harry vir die eerste keer kennis met die reklamewêreld. Aanvanklik skryf hy die bewoording op hondekossakke, maar in 1987, nadat hy en Sanpat van Europa af terugkeer, begin hy werklik ernstig as kopieskrywer werk.

In 1988 word nog ’n drama, Die wit van hulle oë, deur TRUK opgevoer, weer onder regie van Jaqui Singer, en in 1989 ook Antjie Somers and I, wat in 1990 bekroon word met die Dawie Malan-Dalro-toekenning vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse toneelstuk.

In 1989 verskyn Harry se eerste bundel kortverhale, Die waarheid en ander stories, by Taurus. In hierdie debuutbundel vind die leser betrokke kortverhale waar die politieke situasie die agtergrond vorm en die karakters persone is wat nie altyd oral inpas nie. Enkelinge se swaarkry word verbeeld in verhoudings wat misluk, verminkings en selfmoord en dood. Party van die verhale het die Grensoorlog as agtergrond en die trauma wat daarmee saamhang.

Harry en Jaqui Singer se samewerking duur voort met die opvoering van Watercolour days in 1991 deur TRUK. Hierdie stuk is ook voorgelê vir uitsending op televisie, maar die projek is later laat vaar.

Intussen word Harry se kortverhale gereeld in versamelbundels opgeneem, soos in Vuurslag, Forces’ favourites, Eeu en Vonkfiksie. Sy toneelstuk They say heaven is like TV word onder regie van Craig Freimond deur TRUK opgevoer en wen in 1992 die Vita Potpourri-prys. Dit word ook in die Universiteit van Texas se Afrika-manuskripversameling opgeneem. In 1992 skryf en regisseer Harry die kabaret The secret of my excess vir Lynn Joffe.

Na vele pogings en vele draaie by vele uitgewers word X-Ray Visagie en die Vingers van God uiteindelik in 1993 by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is ook in Engels vertaal onder die titel Killing Afrikaners, maar die oorsese mark vind die boek "te Suid-Afrikaans".

Hierdie postmodernistiese roman speel af in 1982 in Suid-Afrika. Die land word gekenmerk deur ’n gemilitariseerde lewenshouding. Dit is in die dae toe apartheid hoogty gevier het. X-Ray Visagie is ’n vasvrakampioen op televisie. Suzette en Daan, sy vriende, word lede van Die Vingers van God en as sulks meen hulle dat hulle hul reg op demokrasie met wapen in die hand kan uitoefen. X-Ray word gedurende ’n vasvrawedstryd voor bykans ’n halfmiljoen kykers ontvoer. Dit wat tydens hierdie aksie gebeur, lei tot die sterfte van die meeste lede van Die Vingers van God, wat daartoe lei dat ’n tweede groep, Vriende van Die Vingers van God, op die been gebring word.

Barries Barnard, ’n speurder, word ingeroep om orde uit hierdie chaos te skep. "Die bonte verskeidenheid karakters en die absurde geweldsituasies waarby hulle betrokke raak, maak die boek soos ’n tekenprent in woorde en is daarop gemik om die sensasionele aard van die samelewing te parodieer" (Eduan Swanepoel, De Kat, Februarie 1994).

Harry se stuk Frida Kahlo’s eyes beleef in 1995 onder regie van Sandra Prinsloo meer as 100 opvoerings in nege Suid-Afrikaanse dorpe en in 1996 tref Harry die Kunstefeeste met Sleeping with Alice, wat onder regie van Gerrit Schoonhoven by die KKNK opgevoer word. Hy verwerk Marita van der Vyver se roman Die dinge van ’n kind wat in 1998 met groot sukses by die KKNK, die Grahamstadse Nasionale Kunstefees en by die Klein Teater in Pretoria opgevoer word.

Sy romans Die man met dertien kinders en Kniediep word beide in 1998 uitgegee en hy verwerk eersgenoemde na ’n voorlesing in twee stemme wat in 1999 sy première by die KKNK het en ook op ’n landswye toer geneem word. Hierdie produksie is in 2000 vir vier ENB-Vita-pryse in Bloemfontein benoem. Harry het die roman self vir die radio verwerk en dit is in 2014 oor RSG uitgesaai.

Die man met die dertien kinders is ’n novelle wat as ’n moderne sprokie beskryf kan word. Dit begin wanneer Jos Goosens vir Mathilda ’n sjokolade koop terwyl hul op ’n Griekse eiland is. Terwyl hy vir Mathilda die sjokolade gee, dryf dertien bootjies in die volmaan op die Middellandse See. Aan die einde van die storie kry die leser vir Jos en Mathilda met hul dertien kinders waar hul op ’n plaas in die Bosveld woon. Hier kan Jos weer begin droom – al lê daar ’n lewe vol mislukkings, verbeurde geleenthede en dronkenskap agter hom. "Om vir sy (veelrassige) gesin te kan sorg, moet Jos diep in eie boesem delf en sodoende met sy Afrikaner agtergrond en die geweld en paranoia daarin afreken. Die problematiese verhouding tussen Jos en Mathilda sorg ook vir vermaaklike kommentaar op familie en gemeenskap." (Rapport, 26 Julie 1998, Marina le Roux)

Barries Barnard is weer die speurder in Kniediep. Strijdom Benadé is ’n baie suksesvolle sakeman uit ’n stoere Afrikaner-familie. Hy het ’n meisie, Tash, help grootmaak en toe sy vermoor word, probeer hy uitvind wie haar moordenaar is. Die titel van die verhaal sinspeel op hoe groot die moeilikheid in die verhaal is.

Die gebeure in die verhaal speel in een week af en om die karakters en die gemeenskap beter te verduidelik, maak die skrywer van terugflitse gebruik. Daar is heelwat wendinge in die verhaal wat die leser nie verwag nie en die afloop is ook nie wat die hoofkarakter sou wou hê nie. (Fanie Olivier, Beeld 26 April 1999)

By 2001 se Aardklopfees in Potchefstroom word twee van Harry se produksies op die planke gebring, naamlik The Bitterbek Blues of Ben (die breker) Bartman en Briewe aan ’n rooi dak. Laasgenoemde stuk, wat sentreer om die eensaamheid van die ouderdom, is die wenner van die AngloGold Smeltkroesprys vir die beste nuwe inheemse drama by die fees. Paul Boekkooi, die voorsitter van die beoordelaarspaneel vir die prys, skryf in sy motivering dat Briewe aan ’n rooi dak “’n empatiewekkende teks is byna in die styl van kamermusiek. Dit is sielskommunikerend, maar op ’n werklikheidsvlak totaal geloofwaardig. Dit breek deur bestaande grense.” (Rapport, 7 Oktober 2001)

Harry wen ook in 2001 die Pendoring vir sy radioadvertensie vir ’n Bic-aansteker. Dit is nie die eerste keer dat hy ’n Pendoring wen nie – in 1995 het hy ook as die wenner uitgetree as kopieskrywer in die tydskrifte- en kleinhandelafdelings, en so ook in 1996. In 2004, om die Pendoring-reklamewedstryd se tiende verjaardag te vier, word Harry gevra om ’n spesiale toneelstuk vir die geleentheid te skryf. Die resultaat is sy agtiende toneelstuk onder die titel Wie is Spek Harmse en waarom skryf hy Afrikaanse advertensies? Hierdie stuk, tesame met Briewe aan ’n rooi dak en 25 vrouens, is in 2006 vir televisie verwerk en verfilm en op kykNET uitgesaai. Briewe is ook op DVD vrygestel.

Harry se drama Briewe aan ’n rooi dak word in 2005 deur Harry self gepubliseer in ’n bibliofiele uitgawe, met handgeskrewe briewe in koeverte. Dit vertel die storie van Magdaleen Otto, ’n vrou wat, soos sy ouer en meer eensaam word, briewe aan die bure se rooi dak skryf. Só leer die leser meer van Magdaleen se lewe ken en word die eensaamheid van bejaardes met net herinneringe en onvervulde verlanges waartoe om jou toevlug te neem, op ’n baie aangrypende manier uitgebeeld. ( Rachelle Greeff, Rapport, 15 Januarie 2006)

In 2006 skryf Harry die eenmanstuk Meneer de Beer, waarin die bekende akteur Frank Opperman speel. Dit word in 2007 verfilm.

In 2006 verskyn ook Harry se kortverhaalbundel, Groceries: 56 stories oor huishoudelike produkte, by LAPA-Uitgewers. In hierdie bundel kortverhale kan Suid-Afrikaners hulleself eien in die temas wat die skrywer aanraak. Die verhale se agtergronde wissel van ’n sendingstasie vroeg in die 20ste eeu tot in die woonstel van ’n Afrikaner in die 21ste eeu in die koue oorsee. Die stories het almal illustrasies by en by elke verhaal word iets uit ’n inkopiesak aangewend om die leser "te betower en weg te voer na hierdie realiteite." (Rapport, 3 Desember 2006 en Beeld, 4 Desember 2006)

In 2007 word Harry se roman, En die lekkerste deel van dood wees, bekroon met die tweede plek in die Sanlam Groot Romanwedstryd en verskyn dit by Tafelberg-Uitgewers.

Harry vertel aan Naomi Bruwer op LitNet dat En die lekkerste deel van dood wees ’n moordstorie met vyf kante is. "Dit gaan egter/dalk/miskien ook oor vyf verskillende soorte alleenheid. Magdalena Otto is so eensaam dat sy briewe aan die bure se rooi dak skryf. Haar seun Kobus is so alleen dat hy die hele tyd stoned is. Sy dogter Camilla is so eensaam dat sy crack rook. Die petty criminal Basil Apolis se alleenheid het fatale gevolge vir Magdalena, en haar man Isak is so eensaam dat hy weier om op te tree soos ’n ordentlike dooie behoort op te tree. Kortliks gestel, dis ’n familiesage waarop Springbokradio trots sou wees en enige sepiekyker sal geniet. ’n Verhaal wat elke moederhart sal roer en die verloop van die wêreldgeskiedenis gaan verander. Enige leser wat meer van ’n boek wil hê behoort hom/haar te skaam."

Op LitNet skryf Andries Bezuidenhout oor En die lekkerste deel van dood wees: "Die storie word vanuit verskillende oogpunte vertel, insluitende dié van ’n moordenaar en ’n vermoorde. Die skrywer verander as’t ware in vyf uiteenlopende persone.

"Daar is ’n bejaarde vrou wat briewe aan die huis langs haar se dak skryf, omdat sy niemand anders het om voor te skryf nie – Magdalena Otto.

"Daar is hierdie vrou se kleindogter – ’n popster in die VSA wat herstel van haar verslawing aan crack. Ons vind uit dat haar ouma in Suid-Afrika vermoor is – Camilla (Wolke) Otto. Hierdie gedeelte verwerk Harry Kalmer later in ’n volwaardige toneelstuk.

”Ons lees die transkripsie van kassette met die stem van die moordenaar – Basil Apolis.

"Ons lees die briewe wat die popster se vader aan haar geskryf het, maar nooit gepos het nie. Toe sy klein was, het hy haar verlaat om terug te keer Suid-Afrika toe – Jak Otto.

"Aan die einde van die boek kom selfs die oorlede man van die vermoorde vrou aan die woord. Hy dryf tussen siprestakke rond en wonder oor sy lewe en sy dood – Isak Otto.

"Dis ’n vreemde boek – amper soos ’n spookstorie – maar ek dink Harry Kalmer klim op ’n oortuigende wyse onder sy karakters se velle in. Die stories kom vir my heeltemal geloofwaardig oor. Met die lees daarvan het ek gevoel ek is besig om iets te lees wat geheel en al outentiek is. Daar is ’n paar redes hiervoor.

"In die eerste plek skryf Kalmer oor die Johannesburg wat ek ken. Dis nie die beskermde voorstede van Saartjie Baumann nie. Dis die kant van die stad waar Afrikaners maar net nog ’n groep immigrante is, waar ons op ’n manier in ’n kosmopolitiese mengelmoes verdwyn.

"’n Deel van die stad se onheilspellende ondertone kom uit as Camilla Otto wakker lê in die rehabilitasiesentrum in die VSA. Sy hoor honde in die verte blaf en dit herinner haar aan Johannesburg: 'Honde wat blaf. Haar pa wat die gordyne versigtig eenkant toe trek en buitentoe tuur om die oorsaak van die honde se onrustigheid probeer sien' (p 64).

"Dan is daar die moordenaar, wat ná ’n traumatiese bekendstelling aan Johannesburg deur die skuim van die aarde met ’n bebloede gesig op die sypaadjie gaan sit en sien die straat se naam is Mooistraat. Hy begin 'lag en lag en lag' (p 146).

“In die laaste gedeelte van die boek, oor die lewe van Isak Otto, word Johannesburg weer uit die verlede opgegrawe. Dis die herinneringe se detail en tekstuur wat dit so geloofwaardig maak. Isak se vriend Abdie se pa ry groente van die Newtown Mark af aan na sy groentewinkel in Troyville. Abdie se pa sê vir Isak se pa, 'Naand, baas Otto' (p 216).

"Hierdie is maar enkele voorbeelde om die punt te illustreer. Dis die tekstuur en die detail in En die lekkerste deel van dood wees wat ’n mens ’n ander blik op die stad gee. Ons kry ’n weergawe van Johannesburg wat dieper kyk as die oppervlakkige weergawes van 'suburb' en 'township'. Dis ’n stad waar regte mense woon. Hulle leef die geskiedenis deur hulle liefdes, teleurstellings en trauma. Hulle is mense wat nie instaan vir een of ander groot idee nie.

"’n Tweede rede vir die boek se geloofwaardigheid is die manier waarop daar oor musiek geskryf word. Een van die mees treffende tonele is waar Camilla Otto praat oor hoe sy voor sy op die verhoog gaan, met haar kop teen die muur gaan staan en toelaat dat die klanke van die bastrom en die baskitaar deur haar lyf gaan. 'Dan stoot sy haarself van die muur af weg en stap die kollig in wat haar aan die kant van die verhoog inwag. Al skree en gil die gehoor wanneer hulle haar sien, weet sy dat die beste deel van die vertoning reeds verby is ...' (p 109). (...)

"’n Laaste rede vir En die lekkerste deel van dood wees se geloofwaardigheid is die wyse waaroor [sic] daar oor buitestanders geskryf word, die mense wat nog nooit in die kassies van die groot ideologieë ingepas het nie – hetsy die nasionalisme van die Afrikaners of die Marxisme van die bevrydingsbeweging. Mense is kompleks en kan nie tot wette van die geskiedenis of stereotipes gereduseer word nie. Ek wil graag die boeke van skrywers lees wat die vervelige ou gesprekke oor misdaad en verval op ’n interessante manier aanpak en ’n mens op nuwe maniere daaroor laat dink. Maar sonder om maklike antwoorde te gee.

"Etienne van Heerden, Mark Gevisser en Harry Kalmer skryf op verskillende maniere oor hoe moeilik dit is om onder ’n ander mens se vel in te kruip, om op sy skouer te gaan sit, of om in haar skoene te staan. Ek dink nie juis ek gee om oor of dit in die vorm van ’n roman, oor die skryf van ’n roman, ’n roman, of ’n biografie is nie. Dis sulke eksperimente wat dit vir my die moeite werd maak om aan te hou bly in hierdie land waar dit meestal onmoontlik is om in tuis te voel."

Harry skryf tussendeur al sy ander bedrywighede ook vir die My tyd-bylae in Rapport die gereelde rubriek oor Vlieger. Dit is gesitueer in die 1970's en vertel van Vlieger wat tot sy ma en pa se ontsteltenis verlief raak op ’n Portugese meisie. Hy gaan weermag toe en bly wonder oor die moeilike tyd tussen kind- en manwees. Harry se skryfsels oor Vlieger is só gewild dat Harry dit in 2011 op versoek van die Woordfees as verhoogstuk verwerk met Ben Kruger in die rol van Vlieger. Die stuk is getiteld Vlieger unplugged, Die produksie vervleg voorlesings en voordrag en om die gebeure verder toe te lig, is daar ’n volledige klankbaan en videomateriaal.

In 2012 word Vlieger en die gevare van close dance by Queillerie uitgegee. Vlieger kry sy naam wanneer sy bal op die treinspoor beland waar die Bloutrein se buffer hom so op sy agterwêreld tref dat hy met 'n wye boog deur die lug trek, sonder om ernstige beserings op te doen.

In Beeld van 5 November 2012 skryf Dineke Volschenk: "Hierdie bekoorlike verhale oor die lewe in Suid-Afrika in die sewentigerjare word gepubliseer in Vlieger en die gevare van die close dance. Die skrywer het die vermoë om fyn detail te verskaf en hierdie verhale word terselfdertyd die verhaal van die grootwordjare en geestestoestand van die jong wit mense van daardie tyd."

Harry se volgende drama, Die Bram Fischer-wals, debuteer in 2012 in Bloemfontein. Die stuk speel af in die Pretoria Sentraal-gevangenis, waar Bram Fischer lewenslange tronkstraf uitdien nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy die kommunisme bevorder het en saamgesweer het om die regering omver te werp. (Beeld, 15 September 2014)

Die drama beeld Bram Fischer se lewe op geskakeerde manier uit, sodat nie net sy politieke ideale en sienswyses nie, maar ook sy menslikheid en Afrikanerskap belig word (Tydskrif vir Letterkunde, Lente 2015). Die Engelse weergawe van hierdie drama, The Bram Fischer Waltz, word in 2013 by die Grahamstad Nasionale Kunstefees opgevoer, waar dit 'n Silver Ovation-toekenning ontvang, en in 2014 word dit bekroon met 'n Adelaide Tambo-prys vir menseregte in die kunste. Die Bram Fischer-wals is in 2016 deur Wits University Press in boekvorm gepubliseer.

Die Bram Fischer-wals het ook ’n speelvak gehad by die Woordfees in 2013. Kalmer het met Stephanie Nieuwoudt gesels oor sy motivering om die stuk aan te pak: "Ek het dit seker maar gedoen in die vae hoop dat dit my geld in die sak gaan bring en ontsettend beroemd gaan maak. Ek dink liewers nie te hard oor my eie motivering nie. Bram Fischer is een van daai mense van wie ek dink ek iets weet maar eintlik niks van weet nie. My lewe is vol sulke figure – soos Freud, Jung, Marx en Mao. Soort van ’n kulturele ikoon. Ek het lank met die idee rondgeloop nadat ek Slangman se biografie as geskenk gekry het. Ek het meer oor Fischer gelees en probeer om uit te puzzle waarom hy sekere keuses gemaak het. Toe ek eers begin lees toe was ek verstom hoe min sy biograwe oor Afrikaners verstaan. Dit was dalk die motivering om die stuk aan te pak. Die sneller was toe ek dit aan Adri Herbert, programhoof van die Vryfees, genoem het en sy die geld bymekaar gemaak het wat die produksie moontlik gemaak het. En toe ek eers met mense begin praat wat saam met Bram in die tronk was – het ek besef ek het ’n wenner." (https://blogs.litnet.co.za/feeswoord/tag/bram-fischer)  

Harry erken teenoor Nieuwoudt dat hy nie met Fischer identifiseer nie, maar eerder ’n bewondering vir hom het. "Hy verteenwoordig ’n ander tyd, met ander waardes. ’n Tyd toe selfs politici nog integriteit gehad het. Hy het interessante keuses gemaak. Verstommende keuses (sommiges sal sê domastrante keuses), maar na die beste van my wete het hy meestal met integriteit opgetree. Hy voel ook bekend. Soos die ‘ooms’ waarmee ons groot geword het. Miskien net ’n bietjie jollier – Bram het van mense gehou en graag partytjie gehou. En dalk is hy ook effe meer medemenslik. Baie dinge van Bram was/is vir beide my en David (Butler wat die rol van Bram Fischer vertolk) geweldig bekend. Hy was uit dieselfde hout gesny as die mans wat my Afrikaanse, en David se Engelse kinderjare bevolk het."

Oor sy keuse van David Butler vir die rol van Fischer vertel Harry dat nadat hy een aand vir Butler gesien het, hy besef het dat hy nogal effe na Fischer lyk. En hulle het al voorheen saamgewerk: "Hy is wyd belese en het ’n literêre benadering wat my as skrywer aanstaan. Hy het ook ’n tegniese register en ’n verstommende stage presence danksy sy werk rondom Herman Charles Bosman. Hy en Nicky Rebelo is meesters van die one-hander. Hy het die rol aanvaar nog voordat ’n woord geskryf of ’n pennie in die bank was."

Die manuskrip van Harry se volgende boek, ’n Duisend stories oor Johannesburg, is in 2012 op die kortlys vir die Groot Romanwedstryd en in 2015 is dit op die kortlys vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys, die WA Hofmeyr-prys, die ATKV-Prosaprys en die kykNET-Rapportpryse vir fiksie en in die rolprentafdeling. Dit is in Engels vertaal en in 2018 word dit met die Barry Ronge-prys vir fiksie bekroon.

Op LitNet is Johannes Bertus de Villiers die resensent. Hy skryf as volg oor ’n Duisend Stories oor Johannesburg: "Wanneer Harry Kalmer in sy aangrypende ’n Duisend stories oor Johannesburg die verhaal van die Goudstad vertel, gaan dit oor mense wat kom en gaan. Selfs by diegene wat in Johannesburg gebore [is] of grootgeword het, spook die stories van hul ouers en grootouers wat as ontwortelde Boere of Chinese trekarbeiders na die stad gekom het.

"Mense sou dalk kon verskil oor wie die hoofkarakter van dié gefragmenteerde roman, bestaande uit ’n aantal verweefde narratiewe, werklik is, maar die storie neem uiteindelik vorm aan rondom Zweig van Niekerk, ’n Suid-Afrikaner wat dekades reeds in Londen woon nadat hy en sy Indiërvrou voor die Ontugwet moes vlug. Zweig keer terug na sy Johannesburg om sy suster te besoek, maar selfs hy, wat hier gebore is, beleef die stad soos ’n vreemdeling en inkomeling. En vir inkomelinge brand die stad. Dis 2008 en 'makwerekwere' in die townships vlug vir hul lewens.

"Terwyl Alexandria brand, bly Zweig in ’n boetiekhotel in Belgravia, omring van die karakters wie se verhale (en familieverhale) die roman vorm. Hulle sluit in ’n Afrikaanse digter en die buite-egtelike dogter wat hy eers as volwasse vrou leer ken het. ’n Fotograaf wie se voorouers uit China Johannesburg toe getrek het. ’n Tsjeggiese immigrant. Die interessantste van dié karakters (en een wie se storie mens wens verder ontwikkel was) is ’n vrou uit Franssprekende Afrika wat in die gastehuis teen die vreemdelingehaat kom skuil. Mens verwag aanvanklik dié vrou gaan ’n belangrike narratiewe spil word waarom die roman uiteindelik grotendeels wentel. Parallelle word in die teks selfs getrek tussen Suid-Afrika se xenofobiese geweld en Kristalnacht, ’n gebeurtenis wat op ’n karakter uit ’n vroeëre generasie ’n bepalende invloed gehad het. Maar gaandeweg verdrink die tema van vreemdelingehaat so bietjie tussen die ander verhaallyne totdat mens teen die einde die indruk kry die skrywer het effens daarvan vergeet.

"Die struktuur van die verhaal beteken dat daar nog ’n paar voorbeelde is van storielyne wat onderbreek word sonder dat dit voel of hulle hul volledige verloop gehad het. Maar vernaamlik vorm die magdom stories egter ’n boeiende geheel.

"In die teks word herhaaldelik melding gemaak van ’n Duisend en Een Arabiese Nagte. Heelwat van wat al oor Kalmer se roman geskryf is, vergelyk die boek met dié klassieke Arabiese werk in die opsig dat mens dit (soos sommige werke van Italo Calvino en Felipe Alfau) op enige plek sou kon begin lees en steeds ’n samehangende storie sou aantref. Ek stem nie heeltemal hiermee saam nie. Ek het in ’n Duisend stories oor Johannesburg ’n besliste narratiewe boog gevind, gebou om die verloop van Zweig se besoek en die geleidelike onthulling van sy familiegeskiedenis (sy grootouers wat die Anglo-Boereoorlog, oftewel Suid-Afrikaanse Oorlog, oorleef het; sy pa ’n verloopte predikant wat in die 1950’s by die struggle teen apartheid betrokke raak).

"’n Interessanter vraag na aanleiding van die titel is eerder waar mens die 'duisend stories' van die titel sou aantref. Want op die oog af lewer Zweig en die ander hoofkarakters net ’n handvol verhaallyne op.

"Die krag van die roman – en ek moet benadruk dat dit ’n boeiende roman is wat ek, ondanks die meer as 300 bladsye, moeiteloos in een dag deurgelees het – lê daarin dat dit binne ’n stad geplaas word waar elke gebou ’n magdom stories vertel. Soms kry Kalmer dit reg om in een beskrywing van ’n straattoneel ’n hele wêreld van stories te suggereer; ’n duisend geskiedenisse van ’n stad wat vinnig opgeskiet het, uitspattig gebloei het, en nou in die nagloed van dié goue dae teen ’n vorm van selfverwoesting veg. (...)

"Baie selde is daar al in Afrikaans met so ’n ‘spirit of place’ oor Johannesburg geskryf. Geen leser wat al sy of haar hart vir Johannesburg gegee het, sal daardeur onaangeraak bly nie."

Ook Deon Maas (Netwerk24, 11 Augustus 2014) is beïndruk met ’n Duisend stories: "Die kort sketse dien slegs as ’n agtergrond terwyl Harry sy storie stadig ontbloot soos ’n ontkleedanser wat langer as net een Guns ’N Roses-liedjie vat om van haar klere ontslae te raak. Harry vertel die storie soos iemand wat baie ervaring het van stories vertel, seker nie ’n moeilike situasie as ’n mens 23 toneelstukke agter die blad het nie.

"Met elke scenario en nuwe karakter bring hy nog elemente na die storie om die donkerte waarin jy ronddwaal, ligter te maak. Hy verweef hierdie stories sonder om iemand af te skeep en dwing jou om bladsy op bladsy te lees al is dit al verbly slaaptyd.

“Sy karakterontwikkeling gebeur teen die agtergrond van goed nagevorste geskiedenis oor Johannesburg. Soveel so, dat jy op die einde besef dat Johannesburg vandag steeds dieselfde plek is as wat dit gedurende die tyd van die goudstormloop was – ’n plek waarheen mense kom met die hoop om ’n beter, nuwe toekoms te vind."

Vir Maas is die storie só suksesvol as gevolg van die manier waarop dit vertel word. "Dit is die teken van ’n skrywer wat sy selfvertroue en voete op dieselfde tyd gevind het. ’n Duisend stories oor Johannesburg is ’n ode aan die stad én die mense én hul stories. Ons kon vir niemand beter gevra het om dit te skryf nie."

Harry Kalmer se laaste boek voor sy voortydige afsterwe aan die einde van Julie 2019 is In die land van die voëls.

Johan Myburg vertel die storie van In ’n land sonder voëls op Maroela Media. Adam Burger is die hoofkarakter van hierdie verhaal wat iewers in die middel van die 21ste eeu afspeel. Na die chaos na die demokratiese verkiesing is ’n referendum uitgeroep. Die mensdom het gestem ten gunste van ’n ekonokrasie – in hierdie ‘utopie’ sou alle korrupsie, geweld en oorloë nie bestaan nie en die Korporasie sou aan die hoof van alles staan.

Ook die klimaat vorm deel van hierdie agteruitgang. Daar is ’n wolklaag tussen die aarde en die son, en wanneer die son wel deur die wolke skyn, blaas ’n sonfluit en moet almal hulle skutbrille opsit.

Die roman word in drie dele verdeel, naamlik "Fladdering", "Vlug" en "Land". Op Netwerk24 (23 Junie 2019) skryf Jean Meiring dat hierdie "dubbelsinnige binnetitels die verhaal se boog gelykstel aan die trajek van ’n voël.

"In die openingsdeel stapel Adam Burger se ek-vertelling in die hede in korterige flitse op. Hulle word deur ewe beknopte aflewerings afgewissel waarin Adam sy ontslape vrou, Sybille, uit die toekoms uit direk aanspreek. (...)

"In die tweede deel, ‘Vlug’, stu die verhaal terugblikloos vinnig in die hede voort, die hinterland se bloedbelope boskasie deur. En dan, in ‘Land’, word die hede-vertelling weer eens met die terugskouende gesprek met Sybille afgewissel.

"Uiteindelik besef ’n mens terdeë dat wat telkens as die waarheid voorgehou word, dalk iets volledig anders is. Só val die skille keer op keer van ’n mens se oë af totdat jy in die finale instansie nie mooi wys is wat wat is en wie se woorde geglo kan word nie."

Johan Myburg skryf as volg in sy resensie op Netwerk24 (24 Junie 2019): "Die 'beter lewe' wat aangebreek het, is die soort toekomsbestaan wat Aldous Huxley beskryf het in sy Brave new world van 1932, ’n boek waarvan hy die aard self bevraagteken het: Is dit satire, ’n profesie of ’n bloudruk? Kalmer se jongste roman laat ’n mens fladder tussen dié moontlikhede en laat jou heimlik hoop op satire. Wat jou laat twyfel, is ’n opmerking soos: 'Dalk is dit in die aard van beskawings om onbeskaafd te wees.'

"Aan die woord is Adam Burger, soos Huxley se hoofkarakter ’n soort alfa-man met inherente gebreke, wat as hy vir hom ’n nom de guerre moet kies, terugval op die naam Siener van Rensburg (hy kon net sowel X-Ray Visagie gekies het). Hoewel Burger nie meer vandag se kind is nie – hy het sy kwota mankemente, onder meer swak oë – het hy die visage van James Bond, Mick Jagger en straks Peter Pan.

"'Ek praat dalk die taal van onthou, maar ek het my leesbril vergeet,' sê Burger vroeg in die boek en kom later mank en met ’n kierie oor die weg. Dat hy verliese gely het, soos die Bybels Job, blyk uit die naam van sy dogter, Jemima (wat terloops tortelduif beteken).

"Hy is alleen – sy mense het hy verloor, nee, hulle is van hom weggeneem – en hy raak betrokke in ’n newelwêreld, ’n nagmerriewêreld waartoe hy toegang kry soos Alice na haar Wonderland deur ’n tonnel, kompleet met ’n sakkie 'drink my'-poeier, in sy geval gemerk 'vir die ouer ultrasportman'.

"Maar dan is hy ook Faustus en les bes, gered deur ’n man met die naam Moses, sélf Moses in sy hangmatbedjie. Name en die betekeniswêreld van name in dié roman rakel ’n parallelle bestaan van sy eie op, maar so ook die magdom multi-betekenisse wat dikwels gewoon tersluiks genoem word.

"Hoewel die verhaal in die toekoms afspeel, is die roman geanker in ’n herkenbare (Suid-Afrikaanse) landskap met ruim beskrywings van ’n hinterland met fauna en flora en hedendaagse produkte, wat nogal dikwels as 'outyds' beskryf word. Daarmee saam betree jy tegelyk die onbekende, wat jou versigtiger laat lees en twee maal laat dink voor jy aanvaar jy snap volledig.

"In wese is die boek veel lywiger as wat ’n mens kry tussen voor- en agterblad. Reken jy die wêrelde van die verwysings in, veral na musiek (moontlik ook as ’n soort klankbaan) én godsdiensbeskouings en godsdienstige dokumente, kom jy onder die indruk van die verwikkelde aard van dié roman, van die gelaagdheid en die onderbeklemtoonde maar sekure hand waarmee Kalmer skryf. Ná hoeveel boeke weet hy nie net wie sy lesers is nie, maar ook waar sy meesterskap lê.

"Kalmer bied ’n rykdom dis- of eerder anti-utopie waarin die leser nuuskierig haar of hom kan verlustig. Bo en behalwe die goeie storie wat Kalmer vertel. Die boek het immers die opdrag: 'Vir my lesers'."

Tydens die Woordfees in 2019 op Stellenbosch gee Harry saam met die visuele kunstenaar, Hannelie Coetzee, die lapboek Die agtste plaag uit. Dit is saam met ’n vrouehandwerkkring in Hillbrow gemaak en is onder andere geïnspireer deur ’n rooi lapboek uit Harry se kinderdae.

Dit vertel die storie van ’n Hollandse skoolmeester wat gedurende die Anglo-Boereoorlog aan die kant van die Boere geveg het en deur die berugte krygshof van Wolmaransstad gefusilleer is.

Hy was dus ’n verraaier, maar, vertel Harry op die Woordfees, "eerder van sy eie idealisme as van ’n nasionalisme”. Hy het aan die Boeresaak geglo, maar tydens sy vrou (Esperance, wat Frans vir “hoop”) se derde swangerskap besef hy oorlog is nie vir hom nie.

"Die boek is ’n liefdesverhaal van twee outsiders – Martruid ('Die kindermeid' en 'bywonersweeskind’) en die Hollandse skoolmeester wat sprinkane in bottels aanhou.

"Ek was mal oor Hannelie se landskapkuns 'Locust & Grasshopper' in 2017 toe sy reusagtige swart prente in die wintergeel gras in die koppies rondom Nirox se beeldpark gebrand het. Toe sy die storie lees en afkom op die sprinkaanversameling van die Hollandse skoolmeester het dit tot haar gespreek.

"Ekself verwys in Die Bram Fischer Wals na die Britse soldate wat Bloemfontein inneem as sprinkane. Die sprinkaan bied ons ’n geleentheid om ’n menslike storie te vertel met die oorlog as agtergrond. Metaforiese reportage eerder as ’n visuele 'show and tell'. Oorlog; die sprinkaan wat ’n verwoeste aarde agterlaat in sy wake.

"Hannelie en ek deel ’n belangstelling in 'verborge geskiedenisse'. Daarom is ons bly dat Ingrid Winterbach, [wat] dikwels self ’n sonderlinge blik op die geskiedenis bied, met ons gesels by die woordfees. Ons was ook gelukkig om ons pel Glenda Venn, die aweregse grafiese en boekskepper en hoof van Istago! Communications aan boord te kry om met die uitleg en drukproses te help.

"Hannelie se vrou, die skrywer en kunstenaar Reney Warrington, het ’n kort film geïnspireer deur die boek met ’n voice over deur Mariëtta Kruger (TBC) [te skiet].

"Die boek self is ’n labour intensive job en Hannelie sit elke dag saam met lede van die Boithumelo Sewing Projek in Hillbrow daaraan en werk.

"Sy en ek is altwee Gereformeerd groot gemaak dus is die 'Psalmboek formaat' nie toevallig nie. Net soos 'die kantwerk' wat die boek omsoom ’n verwysing is na Emily Hobhouse se kantwerkprojekte saam met die boerevroue na die oorlog."

Ná Harry se afsterwe sê Hannelie aan AJ Opperman (Die Burger, 27 Julie 2019) dat Die agtste plaag Harry se idee was, "maar hy het respek gehad vir wat ek doen. Dit was regtig deel van sy persona om saam met iemand iets te skep en oop vir voorstelle te wees. Hy was ’n baie spesiale kunstenaar. Dit was sy Nuwejaars-brainwave in 2018 en verlede jaar het ons in die winter bier gaan drink en daaroor begin praat."

In 2018 is kanker by Harry Kalmer gediagnoseer. Op 26 Julie 2019 is hy in Johannesburg aan keelkanker oorlede. Hy laat sy vrou Sanpat en twee kinders agter.

Huldeblyke

  • Jeanette Ferreira: "’n Briljante skrywer en ’n mensch. Altyd die lewe lig aangepak – oënskynlik. Waarskynlik omdat hy ’n ware filosoof was. Voorspoedige reis, Harry." (Facebook)
  • Marcel van Heerden: "Dit is vir my ’n groot kompliment dat Harry altyd gesê het ek het hom gehelp om in teater te kom. Maar ek voel ’n baie persoonlike verlies. Ons was huisvriende en ons seuns was saam in die klas. Dit was vir my ’n groot kompliment dat hy die stuk Weg in 2017 vir my geskryf het. Ek het geweldig baie respek vir hom gehad as skrywer. Ek is bly dat toe hy siek geword het, daar ’n dringendheid by hom ingeskop het om aan te hou werk." (Die Burger, 27 Julie 2019)
  • David Butler: "Dit was ’n reis saam met Harry. Ons is ook bevriend en in 2011 het hy my vertel van ’n idee wat hy het. Daar was nie ’n teks nie, maar omdat dit Harry is, het ek dadelik ja gesê en ’n paar maande later was daar ’n teks. Ons het by my huis gerepeteer. Ek het hom as ’n skrywer vertrou. Daar was 'n short hand tussen ons." (Die Burger, 27 Julie 2019)
  • Hans Pienaar: "Harry was my sielsgenoot, my broer, my kameraad. As skrywer het Harry onvergeetlike karakters geskep en hy was een van die beste humoriste in enige taal in Suid-Afrika. Vir sy vele vriende het hy lojaliteit bo alles gestel; hy was ’n ware mensch met ’n diep insig in ons lewens. My kinders sê hulle onthou die warmte van ons aande saam. Hy het ons male sonder tal vermaak met sy unieke humorsin; daar het nooit ’n onoorspronklike woord oor sy lippe gekom nie. Sy heengaan laat ’n groot gat in my lewe." (Die Burger, 30 Julie 2019)
  • Corné Coetzee, Hans Pienaar se vrou: "Ek wil skaars glo dat ons vriend van meer as drie dekades nooit weer met ’n bottel wyn by ons stoeptrappe sal opstap nie. Hy kon lekker kuier omdat hy in byna alles, en bowenal mense, belang gestel het. En hy kon luister. Sy geesdrif oor dinge was wonderlik. Oor ’n boek wat hy gelees het, ’n toneelstuk, ’n plek, ’n song, ’n spesiale gereg wat Sanpet gemaak het. Harry het dikwels verwonderd gesé: 'Die beautiful!' Een van die heel mooiste goed was sy liefde vir sy kinders en sy vrou. Ek dink dis in een van sy kortverhale dat ’n karakter na sy vrou van baie jare sit en kyk, en hy dink: 'EK besef ek is nog steeds verlief op haar.' En almal wat vir Harry en Sanpat geken het, weet dit is geen persona nie, dit is Harry wat self hier praat, uit sy groot, liefdevolle hart uit." (Die Burger, 30 Julie 2019)
  • Schalk Schoombee: "In 1991 was my eerste onderhoud vir De Kat met Harry, die kopieskrywer, vir ’n artikel oor Afrikaanse taalmense in die reklamebedryf. Toe al was hy behep met die woord, slagreëls, klingels, hoe woorde vlytig ingespan word om enige produk te verpak. Maar Harry wou ook wyer gesels, oor skrywers, filosowe en boeke waarvan ek niks geweet het nie, oor politiek, idees, denkrigtings. Hy het oorgeloop met konsspte en gebroei oor projekte. Een beroep kon hom kwalik definieer. Later sou hy in ’n radioveldtog vir dié glanstydskrif met die ongeveinsde slagreël vir Nataniël vorendag kom: 'Maar koop net die bleddie ding!' (...)

"Harry was altyd aan die lees, herlees en navors, onversadigbaar en byna obsessief, maar hy was geensins koesterend oor boeke. Hy wou nie boeke opgaar nie, het hy my meegedeel, eerder weggee. Plek maak vir die volgende ontdekking en leesavontuur. Sy nugter kyk op sake blyk uit elke sin en paragraaf van sy werk. Oogklappe is daar nie. In een onderhoud het hy gebieg dat hy altyd geboei was deur 'verskuilde geskiedenisse', stories wat onvertel gebly het. Sy verkennende gees en dikwels eksperimentele aanslag was trompop, onthutsend en gestroop.

"Hy was deeglik bewus van neigings in die letterkunde, maar kon sy eie koers onbeteueld inslaan. Stories was belangriker as postmodernistiese speletjies; resensente moes dans om by te bly met die veelheid van narratiewe drade, karakters met kruiskulturele identiteite, die wye belangstelling van ’n outodidak, aanhalings en fragmente wat hy om ’n tema geweef het." (Die Burger, 30 Julie 2019)

Publikasies:

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Keur van artikels oor en deur Harry Kalmer beskikbaar op die internet

 

Bygewerk: 2019-08-14
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

The post Harry Kalmer (1956–2019) appeared first on LitNet.


Gesogte ATKV-Woordveertjies vir uitblinkers: hier is 2019 se wenners

$
0
0

Tydens ’n luisterryke en feestelike aand van woorde en wenners, is die ontvangers van vanjaar se ATKV-Woordveertjies op Vrydag 6 September in Stellenbosch aangewys. Die Woordveertjies is vanjaar vir die twaalfde keer aangebied.

Leonie van Rensburg, stigter en eienaar van Graffiti Boeke, is tydens die geleentheid met ’n spesiale toekenning vereer vir haar passievolle toewyding aan Afrikaanse boeke en skrywers. Haar haas ongeëwenaarde kennis van die plaaslike boekemark bring lesers en Afrikaanse boeke nie net binnelands nie, maar regoor die wêreld by mekaar uit.

Die ATKV-Prosaprys se beoordelaars was Anastasia de Vries, Elmari Rautenbach en Kirby van der Merwe met die wenner: Die dao van Daan van der Walt – Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg).

Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis: ’n resensie

Die kategorie Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Shireen Crotz, Roela Hattingh en Madri Victor met die wenner: Uit die bloute – Chanette Paul (LAPA Uitgewers).

Diana Ferrus, Charl-Pierre Naudé en Bernard Odendaal het die
Prys vir Poësie beoordeel met die wenner: Asof geen berge ooit hier gewoon het nie – Pieter Odendaal (Tafelberg).

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie deur Pieter Odendaal: ’n resensie

Die Prys vir Romanses is deur Carol-Ann Alexander, Naomi Bruwer en Riette Rust beoordeel met die wenner: Blameer die skoenlapper – Elsa Winckler (Romanza).

Die Prys vir Spanningslektuur se beoordelaars was Phyllis Green, Thys Human en Valda Jansen met die wenner: Prooi – Deon Meyer (Human & Rousseau).

Prooi deur Deon Meyer: ’n resensie

Marina Griebenow, Ilse Oppelt en Hennie van Greunen was die beoordelaars vir die Prys vir Dramateks en die prys gaan vanjaar aan Klippe wat val – Philip Rademeyer.

Prys vir Niefiksie is deur Jean Meiring, Herman Wasserman en Bettina Wyngaard beoordeel met die wenner: Ingrid Jonker – Petrovna Metelerkamp (Penguin Random House).

Ingrid Jonker – ’n biografie by Petrovna Metelerkamp: a review

Die Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse is beoordeel deur Rufus Gouws, Sophia Kapp en Fred Pheiffer en is aan Pharos Afrikaansgids (2018) toegeken. Samesteller: Nicol Faasen. Uitgegee deur Pharos Woordeboeke.

Die Toekenning vir Leesbevordering gaan vanjaar aan die Du Toitskloof Fairtrade Mobiele Biblioteek en Mediasentrum.

Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings, ’n kategorie waar die kinders self vir hulle gunstelingboeke en -illustrasies stem, is soos volg:

Voorleeskategorie: Graad RR – 1

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het
  • Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Die dag toe Ernst ’n ertjie geëet het

Selfleeskategorie: Graad 2 – 3

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Spaghetti tussen jou tone
  • Illustreerder: Alex van Houwelingen (LAPA Uitgewers) – Spaghetti tussen jou tone

Selfleeskategorie: Graad 4 – 5

  • Skrywer: Jaco Jacobs (LAPA Uitgewers) – Max die masjien
  • Illustreerder: Stephen Wallace (LAPA Uitgewers) – Max die masjien

Selfleeskategorie: Graad 6 – 7

  • Skrywer: Celeste Slabber-Loriston (Protea Boekhuis) – Jinx

Selfleeskategorie: Graad 8 – 10

  • Skrywer: Fanie Viljoen (Tafelberg) – Veldiep

The post Gesogte ATKV-Woordveertjies vir uitblinkers: hier is 2019 se wenners appeared first on LitNet.

Chanette Paul (1956–)

$
0
0

Gebore en getoë

Chanette Paul is – volgens haar geboortesertifikaat – op 20 Oktober 1956 iewers in Johannesburg gebore. Toe sy vier maande oud was, het haar regte ouers haar by die Johannesburgse weeshuis gaan haal en haar na Stilfontein geneem, waar haar pa ’n elektrisiën op die myn was. Sy ken nie haar biologiese ouers nie, maar sy weet dat sy met geboorte as Marion Cathleen Hughes geregistreer is en dat haar aanneming waarskynlik daaraan te wyte was dat haar biologiese pa ongeveer drie weke na haar geboorte oorlede is. Op Stilfontein is sy Chanette gedoop – aanvanklik sou sy Jeanette genoem gewees het, maar uiteindelik is sy as Chanette Meyer geregistreer. Die gesin trek baie rond en voor sy skool toe is, bly sy reeds in Cullinan, Sunnyside, Villieria, Rietfontein en Menlopark. Haar grootouers van moederskant immigreer kort na die Tweede Wêreldoorlog uit Nederland na Suid-Afrika en bring kosbare erfstukke saam wat later, na haar ouma se dood, in Chanette se huis gehuisves word.

Sy gaan vir die eerste keer skool toe in Silverton en voor sy klaarmaak met haar laerskooldae, woon sy skole in Meyerspark, Generaal Hendrik Schoeman op Schoemansville en Laerskool Louis Leipoldt in Lyttelton by. In standerd vyf word sy verkies tot onderhoofleier en sy wou nie weer trek nie, maar sy moes maar die plaasskool in die omgewing van Bon Accord-dam bywoon. Halfpad deur haar standerd 6-jaar verhuis hulle na Durban en daarna na die Suidkus, waar sy aan die Hoërskool Kuswag skoolgaan tot vroeg in standerd 8, toe hulle na Newcastle trek. Haar standerd 9- en matriekjaar voltooi sy aan die Hoërskool Ermelo.

Chanette se pa het geskilder en haar ma het haar vandat sy klein was met stories grootgemaak, en vandat Chanette kon skryf, timmer sy stories aanmekaar. Sy het al in standerd twee ’n A4-boek met ’n spiraalrug gehad waarin sy stories begin neerskryf het. In standerd agt word een van haar kinderverhale, ”Tant Mollie en die stoute feetjie”, oor Siembamba voorgelees deur Kosie Venter, wat hulle buurman in Meyerspark was. Sy ontvang die  vyf rand daarvoor. In matriek skryf sy haar eerste volwaardige kortverhaal, maar dit bly in die laai lê. In ’n onderhoud met François Bloemhof in Vrouekeur (9 April 2004) vertel Chanette dat sy baie bevoorreg is om ouers te hê wat begrip het daarvoor dat sy so “op die periferie van die werklikheid” woon en self ”miskien so ’n bietjie dromerig” is.

Chanette onthou dat die Huppelkind-boeke van WO Kühne vir haar altyd sal uitstaan: “Die stories het my kinderdae met verwondering gevul oor ’n lewe 'in die middel van die wêreld in die middel van die vlei'. ’n Paar jaar later het Die Uile van Cor Dirks my gunsteling geword. Ek glo dis hierdie twee reekse wat my weetlus en liefde vir geheimenisse aangewakker het.” (Huisgenoot, 26 Mei 2016)

Karin Brynard wou op Crime Beat weet wanneer Chanette begin lees het: “Vandat ek kan onthou het my ma my met stories gevoer, of dit nou vertellings of voorlesing was. Ek het self begin lees vandat ek kón. My absolute gunsteling as kind was die Uile-reeks van Cor Dirks. Dis seker waar my liefde vir spanning sy vroegste grondslag gekry het. Daarna is ek deur ’n Ena Murray-fase – vandaar sekerlik die liefde. ’n Boek wat ek voos gelees het, een wat my Hollandse ouma vir my gegee het en een van die min boeke wat ek besit het, was School-Idyllen van Top Naeff. Elke keer snot en trane gehuil. Maar ek het nog altyd feitlik alles gelees waarop ek ook al my hande kon lê. Die groot deurbraak het gekom toe ek begin Engels lees het – ongelukkig relatief laat omdat my ma nie Engels magtig was nie en ons gevolglik net Afrikaanse en Nederlandse boeke by die biblioteek uitgeneem het. (Ek kon Nederlands en Vlaams destyds baie vlotter lees as Engels). Maar toe ontdek ek wat ’n Book Exchange is en daarmee saam so met verdrag vir Wilbur Smith, Arthur Hailey, Harold Robbins, Jeffrey Archer, Sidney Sheldon, Leon Uris, Robert Ruark, Irving Wallace, Stephen King, Shirley Conrad, Jean Auel ... ag, al die bestsellers en page turners van destyds. Op universiteit het ek darem ook literêre werke amptelik ontdek alhoewel ek reeds vroeër daarmee kennis gemaak het, maar ek het altyd my voorliefde vir ontspanningsfiksie behou ondanks ’n meestergraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde!”

Verdere studie en werk

Chanette is na die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, waar sy in 1977 haar BA-graad verwerf met Afrikaans-Nederlands en Psigologie as hoofvakke. In 1978 vertrek sy na Bloemfontein, waar sy haar Hoër Onderwysdiploma met lof slaag. In 1979 hou sy vir twee maande skool in Groblersdal en vir die res van die jaar gee sy Afrikaans Tweede Taal vir immigrante aan Edenvale High School.

Chanette trou in 1980 met Jack Otto Paul. Hy doen kontrakwerk en hulle gaan bly langs die Limpoporivier in ’n karavaan, 80 km vanaf die naaste telefoon. Om haar tyd te verwyl, skryf sy haar in by Unisa vir Kriminologie II, Volkekunde I en Argeologie I, nie vir graaddoeleindes nie. Sy slaag laasgenoemde twee met onderskeiding. In 1982 behaal sy haar BA Honneursgraad met onderskeiding, wat haar moed gee om vir haar meestersgraad in te skryf, maar weens ’n sameloop van omstandighede moes sy opskop.

Gedurende 1985 keer hulle terug na die Rand en is maak sy gebruik van die kans om weer te studeer. Sy skryf in 1987 by die Randse Afrikaanse Universiteit in vir haar MA-graad, wat sy in Junie 1988 met lof slaag. Sy ontvang vir haar skripsie, Funksies van die fisiese ruimte in Toorberg, onder leiding van prof Johann Johl, die Simon Weinstein-prys.

Intussen raak Chanette betrokke by die klerebedryf en word sy ’n vennoot in ’n klerefabriek en behartig later haar eie fabriek en boetiek.

In haar tweede jaar op universiteit diep sy haar lank-terug se verhaal op en begin om dit ingrypend te verander. Sy stuur dit aan Sarie, wat haar laat weet dat hulle waardering het vir die verhaal, maar dit nie kan plaas nie, aangesien hulle ’n soortgelyke een deur Elsabe Steenberg kort tevore geplaas het. Chanette stuur dieselfde verhaal aan Bennie Fritz van Die Huisgenoot, wat dit aanvaar met sekere voorwaardes. In 1976 word die verhaal gepubliseer en ontvang Chanette die “prinslike som” van R86 daarvoor. Bennie Fritz ontvang die een verhaal na die ander van Chanette, maar almal word teruggestuur, meestal met opbouende kritiek en aanmoediging. Vroeg in die negentigs probeer sy weer, maar weer wag teleurstelling vir haar. Sy besluit dus dat skryf nie vir haar bedoel was nie en hoewel sy nou en dan ’n verhaal aanpak, word dit nooit voltooi nie.

In Oktober 1994 woon sy die jaarlikse Nasionale Leeskringseminaar in Welkom in die Vrystaat by en gesels met Esme Mittner, verhaleredakteur van Sarie, wat haar aanmoedig om aan te hou probeer.

In Desember 1994 trek Chanette en haar man na Hartebeespoortdam. Sy is 38, uit die klerebedryf en moet besluit wat sy met die res van haar lewe wil doen. Sy besluit dat sy haarself ’n jaar gaan gun om voltyds te skryf. Sy koop die goedkoopste rekenaar op die mark en begin skryf. Haar eerste poging is ’n novelle van ongeveer 9 500 woorde, wat Esme terugstuur met die versoek dat dit ingekort word tot 3 500. Chanette begin met oorgawe skryf aan ’n Mills & Boon-boek in Engels, maar ook dit word teruggestuur. Teleurgesteld begin sy skryf aan ’n liefdesverhaal in Afrikaans. Sy ontmoet vir Cecilia Britz van Perskor en gee haar die eerste paar hoofstukke van haar verhaal. Cecilia stel belang en in die eerste week van Desember 1995 lewer Chanette die voltooide manuskrip van Maalstroom van ekstase by Perskor se kantore af. Sy begin ook werk aan die redigering van die verhaal wat sy aan Esme Mittner gestuur het, en ’n paar dae uitmekaar, net voor die Kersseisoen, hoor Chanette dat albei aanvaar is – en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Ongeveer 40 romans het al uit haar pen verskyn en die einde is nog nie in sig nie. Vir haar eerste roman ontvang sy in 1996 die Perskor-prys vir die beste romantiese fiksie, en Wip van die droomvanger is in 1999 die naaswenner van die ATKV-Prosaprys.

Chanette en Jack woon op ’n stadium by die Hartebeespoortdam en as hy kort-kort weg is van die huis as gevolg van sy werk, bly sy, die twee katte en honde en ’n hand vol visse agter om mekaar geselskap te hou. Haar huis en sy inhoud is ’n duidelike weerspieëling van Chanette se kreatiewe ingesteldheid.

In 1998 verskyn haar roman Vlerkaf, wat handel oor drie vroue wat elkeen met hulle persoonlike probleme worstel. Die esoteriese figureer sterk in die verhaal en daar is ook verwysings na die mitologie en spesifiek na koning Arthur. Chanette vertel vir Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 28 April 1998) dat sy baie navorsing gedoen het oor die esoteriese en die Arthuriaanse. Sy is nie self ’n aanhanger van “enige esoteriese denkrigting nie, maar het ’n groot belangstelling daarin”.

In ’n onderhoud in Sarie van November 2004 beken Chanette dat sy die liefdesverhaal-genre gekies het omdat sy as enigste, eensame kind skoolvakansies omgelees het aan liefdesverhale. “Toe ek begin skryf het, was my vertroue in my skryfvermoëns maar eina, maar ek het vir ’n liefdesverhaal kans gesien en gehoop dit sou vir my ’n soort skryfleerskool wees.” Sy verpes die term hygroman: “Dit gaan oor romantiek en begeerte tussen karakters wat hulle in ’n ontwikkelende liefdesverhouding bevind, asook die emosionele belewing hiervan by die heldin – nie grafiese beskrywings van die seksdaad nie. Ek is in murg en been ’n romantikus.”

In 2003, terwyl Chanette op De Rust naby Oudtshoorn woon, voltooi sy haar MA in Skeppende Skryfwerk (cum laude) onder leiding van prof Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad nadat sy ’n beurs van Human & Rousseau Uitgewers ontvang het. Die roman wat hieruit voortgespruit het, Leila word lig, haal die kortlys van die ATKV-Prosaprys in 2006. Dit is die eerste roman wat sy publiseer onder die naam Chanette Paul om dit te onderskei van haar ligter fiksie, wat sy as Chanette Paul-Hughes skryf.

In 2003 trek Chanette en haar kat Vasti na Stanford, naby Hermanus, aan die oewer van die Kleinrivier, en sy raak liries oor die uitsig vanuit haar studeerkamer op die rivier en die Kleinerivierberge. “Daar is vir my iets magies hier. Ek hoor feëvlerke in die melkhoutboom en soms dink ek ek sien die wenkbroue van ’n waternimf wat oor die meniskus van die rivier na my loer. Ek verneem dit kan dalk vlermuise en otters wees wat my verbeelding op loop het, maar ek verkies om anders te glo.” (aan Sarie, November 2004) Chanette “speel” eienaar-bouer van haar huis in Stanford en vertel van haar al haar wedervaringe in April 2005 se Rooi Rose se rubriek ”Agterstoep”. Sy vertel dat die man in haar lewe, Ernie Blommaert, eindelose geduld het met haar wanneer “ek in storie-mode ingaan en nie heeltemal in die gees teenwoordig is waar die vlees haar bevind nie.”

Chanette se huis is vir Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 27 Oktober 2010) soos iets uit ’n sprokie. “Aan weerskante van die voordeur is sementmeerminne – een met vlerke en een sonder vlerke – wat Koos Malgas van Nieu-Bethesda kort voor sy dood vir haar gemaak het, ’n klimop is stadig besig om die mure toe te groei en oral is blomme en ’n paadjie wat jou laat dink Gouelokkies gaan netnou hier afgehuppel kom om iets te ete te soek. Aan die agterkant strek die grasperk tot by die rivier, waar Blom se rivierboot, die River Rat, vasgemeer is. Hiermee neem hy toeriste op riviertogte.

“Die onderste verdieping van die huis is gevul met ’n eklektiese mengsel van goed. Daar is uitstalgoed op oop oppervlakke, helderkleurige plakkate van wulpse vroue, skilderye van feeagtige vroue, droomvangers, windklokkies. Saam met die baie hout – van die venster- en deurkosyne tot die vloer en deure – verleen dit warmte aan die vertrek wat vol herinneringsgoed is. Soos die meubels uit ’n ou Duitse schloss wat ’n Joodse vlugteling ná die Tweede Wêreldoorlog by haar Nederlandse oupa laat aflewer het. Dit was sy manier om dankie te sê vir haar oupa se hulp aan die Jode tydens die oorlog.

“Haar stamboom is nog interessanter as ’n oupa in die Nederlandse ondergrondse weerstandsbeweging. Volgens Chanette stam haar familie af van ’n buite-egtelike kind van Floris die Vyfde (1254–1296 nC) wat eeue gelede oor Holland regeer het.

“In haar slaapplek is oral boekrakke vol gepak met allerlei boeke. Van sprokies tot filosofie en natuurlik rye vol van Chanette se eie boeke. Sy het immers al meer as 30 geskryf. Die boekrakke dien as mure wat haar werkplek van die slaapplek afskei.

“Om haar rekenaar en om die bad se rand is ’n feërie – feetjies, elwe, dwergies en ander – uitgepak. Wanneer sy in die bad is, is dit asof die tuin in haar badkamer is. Plante loer om die vensterbank van die badkamervenster op die boonste verdieping. Ook in haar werkhoek word sy omring deur plante wat van buite af ruig om die vensterbanke krul.”

Chanette vertel aan Nieuwoudt: “Feërieë verteenwoordig al die mens se eienskappe: Boosheid en goedheid. Hulle is ’n afskadu van hoe ons is. Ek hou van die verbeelding agter die mitologie van ­feërieë.”

Meerminne en die mites wat om hulle verweef is, is vir haar ’n bron van inspirasie. Die visvrou figureer ook in die reeks met Gys Niemand as speurder. “Die meermin is by uitstek die uitbeelding van die vrou as intuïtiewe wese in haar oervorm,” skryf Chanette op haar blog. “Sy is vasgevang tussen die waters van die onbewuste en die land van die bewuste wat ’n onderlyf verg, en die vermoë om te kan asemhaal. Sy hunker immer na ’n maat – een wat haar dikwels nie verstaan nie, maar sonder wie sy nie heel voel nie.”

Chanette is van tyd tot tyd betrokke by leeskringe, skryfskole en skryfwerkswinkels en hou in 2003 haar eerste Manuskripfabriek vir skrywers van romantiese fiksie. Sy doen ook manuskripkeuring vir LAPA-uitgewers, lei skrywers op in die romantiese genre en evalueer manuskripte vir voornemende skrywers. Sy is ook een van die dryfvere agter die daarstelling van LAPA-uitgewers se drukkersnaam Romanza, wat kontemporêre en histories romantiese fiksie publiseer.

Deesdae (2019) doen sy manuskripontwikkeling vir LAPA Uitgewers. “In Engels sou jy dit seker structural editing kan noem, maar dit strek heelwat wyer as dit. In SA moet jy maar altyd meer as een ding in jou werksomskrywing inkorporeer. Deesdae lees ek so een tot twee manuskripte per maand, maar voorheen was dit veel meer. Ek het egter aansienlik afgeskaal omdat ek andersins nie genoeg tyd vir my eie skryfwerk kry nie,” vertel sy aan Phyllis Green (Sarie, 20 Julie 2018).

“Ek werk ook deesdae net met manuskripte van skrywers saam met wie ek al ’n lang pad gestap het, almal nou reeds gepubliseerde skrywers, en slegs nou en dan met ’n manuskrip van ’n nuweling wat werklik baie potensiaal het. Verder doen ek op informele vlak navorsing oor genres en trends in die internasionale ontspanningsfiksiemark. Dis vir my en my uitgewers belangrik om te weet wat in die internasionale speelveld aan die gang is.

“Ek het voorheen skryf-/slypskole aangebied, maar dit het net te tydrowend geraak. Ek word egter steeds soms uitgenooi om oor skryfsake te praat en doen dit graag as ek tyd het. Ek het ’n paar bydraes gemaak tot Die Afrikaanse skrywersgids, wat dit makliker maak om vir skrywers, veral beginnerskrywers, daarheen te verwys pleks van telkens dieselfde raad te gee.”

Op ’n vraag oor hoe lank sy aan ’n boek skryf, sê Chanette dat dit afhang van die boek, van haar tyd en van die nood. Sy het ses van die sewe boeke in die Davel-reeks in elf maande geskryf – gemiddeld twee maande per boek! Maar aan Leila word lig het sy vier jaar geskryf. Sy sit so gemiddeld twaalf uur per dag agter die rekenaar.

Op haar blog skryf Chanette: “Ek skryf semi-voltyds. Ek doen manuskripontwikkeling vir Lapa Uitgewers wat gemiddeld so 1–2 weke per maand van my skryftyd steel, maar ek is baie dankbaar daarvoor, want dit beteken ek nie net afhanklik is van my tantieme om te oorleef nie.

“Wanneer ek skryf, skryf ek hard. Ek sit so 10–12 ure per dag voor die rekenaar. Dit sluit natuurlik navorsing en allerhande ander dinge in – onder meer staar. Maar eintlik ‘skryf’ mens 24/7, want jou kop bly maar voortdurend by die storie. Ek het nou die dag saam met Blom, die geduldige man in my lewe, gaan rugby kyk by ons plaaslike pub. Toe ek weer sien, kyk almal om my na my pleks van die skerm. Blom sê ek het met my hand op my knie geslaan en gesê ‘yes! ek het hom’. Dit was op die oomblik toe iets oor een van die hoofkaraktes van Dryfhout (dis nou Gys nr 5) vir my duidelik geword het – terwyl die Stormers die een fout na die ander gemaak het.

“Ek stel vir my losweg ’n target van 12 000 woorde per week vir my skryfweke. Meestal doen ek so 2 000-3 000 woorde per dag. Soms is die 50 woorde, en soms as ek op ’n roll is tot 7 000. My rekord was oor die 8 000 woorde op een dag, maar dis die stukke wat altyd baie redigering nodig het.” (Op Chanette se blog)

Volgens Chanette is die heldin die spil waarom die liefdesverhaal draai. Sy vertel aan François Bloemhof in Vrouekeur  “die leser wil deur haar oë sien, deur haar emosies ervaar en deur haar lyf voel. [...] Ek dink nie my heldinne uit nie, hulle klop by my aan. Hulle kan soms baie wederstrewig wees, veral oor wie die held gaan wees, maar ook oor name. Hulle laat hulle nie voorskryf oor wat hulle wil aantrek en hoe hulle veronderstel is om sop te eet nie. En wanneer die held hulle die eerste keer gaan liefkoos nie. Partykeer het ek al my dae om die twee net in ’n omhelsing te kry.”

Haar belangstellingsveld is wyd – benewens lees (alles wat voorkom, maar veral raaiselfiksie), reis (waarheen ook al) en musiek (van Chris Chameleon tot Chopin) is sy passievol oor tuinmaak, simboliek, mitologie, die misterieuse en esoteriese, kajakvaart, skubaduik, snorkel en onderwater-ekologie. Sy is lid van die South African Amateur Underwater Ecology Society wat universiteite help om navorsing op koraalriwwe te doen. “Ek duik graag op Ponta D’Ouro in Mosambiek, met sy wonderlike gevarieerde riwwe. [...] Wanneer ek duik, kom ek met ’n hele nuwe dimensie in my in aanraking. Miskien het dit iets te make daarmee dat duik amper simbolies kan wees van die wegsink in die vrugwater van die onderbewussyn, daar waar alles inderwaarheid begin.” Dan is seiljagvaart en motorfietse ook op haar lys belangstellings. In 1999 vertel sy vir Alita Vorster dat sy nog witwatervlotry op die Zambezi, ’n reksprong, ’n valskermsprong en ’n toer deur Afrika met ’n 4x4 beplan “so skuins voor ek vier en tagtig jaar oud is”.

In 2007 begewe Chanette haar op ’n heel ander terrein, naamlik dié van die spanningsverhaal, maar nog altyd met ondertone van romanse daarby. Springgety, die eerste van vyf boeke waarin die speurder Gys Niemand en konstabel Fortuin die geheime moet ontrafel, is ook deur LAPA uitgegee (soos ook die ander vier).

In Springgety gaan Lily Reynecke na Kruisbaai om Maja se spore na te volg. Kort na haar aankoms eis Springklip, die hoë krans waar reeds vier kruise staan, nog ’n lewe. En dit sit ’n hele string van gebeurtenisse op tou wat deur Gys opgelos moet word.

In Literator van Desember 2008 skryf S Meyer oor Springget0y dat die karakters die leser op ’n persoonlike vlak in die storie intrek. ”Die oortuigende motivering wat die verlede en jeugomstandighede ten opsigte van verskeie karakters se optrede bied, bring vir die leser die moontlikheid om hom-/haarself iewers te vind: in Ben wat as kind net skraapsels van ouerliefde geken het; in Kassie wie se enigste sekuriteit in sy ouer broer lê; in Ada wie se gewigsprobleme haar emosionele onsekerheid verraai; in Rina wat deur haar pa gemolesteer is; of in Maja wat met haar goeie bedoelings en swak oordeelsvermoë diegene rondom haar se lewens eindeloos kompliseer.

“Die hegte struktuur en fassinerende storielyn maak van hierdie dik roman meesleurende vakansieleesstof. Daar is genoeg kinkel in die verhaalkabel om die leser tot aan die einde te laat raai.”

Springgety is in 2016 herdruk en oor die herdruk skryf Yolanda Wessels op LitNet dat die skrywer goed daarin slaag om die leser aan te gryp en te laat vereenselwig met die verhoudings tussen die karakters, omdat almal al probleme ervaar het met verhoudings waarin daar wantroue is. “Dit is die realiteit, daarom is dit maklik om jou in te leef, veral as jy al bietjie lewensondervinding onder die knie het.  Jy kan nie help om vinniger te lees om te sien wát die uiteinde is, wie die skuldige is en wat gaan gebeur nie. Natúúrlik is dit ook ’n roman, so jy soek daardie bietjie romanse en die hoop beskaam geensins vir ’n prentjiemooi liefdeseinde nie.

“Chanette kwyt haar goed van haar taak in haar eerste spanningsroman. Die leser se aandag word deurentyd  behou, daarom soek jy amper ’n wegglipkkansie om nog ’n bietjie te lees en voor jy jou oë uitvee is ’n paar uur verby en spoed jy deur haar gemaklike, vloeiende skryfstyl.”

Die tweede in die reeks, Fortuin (2008, met ’n herdruk in 2016), speel af rondom die joernalis Xanthe Tredoux wat na die afgesonderde landgoed Paradyskloof in die berge moet gaan in opdrag van die redakteur van Tuisfront om uit te vind wat agter Eva van Eeden en haar Paradyskloof skuil.

Chanette vertel aan LAPA (LAPA-boekkatalogus Oktober–Desember 2008) meer oor Fortuin: “Skryf is, benewens harde werk en ’n Trojaanse toertjie in selfdissipline, ook ’n magiese ervaring. ’n Goeie voorbeeld hiervan is speurder-sersant Gys Niemand, die karakter wat in Springgety veronderstel was om ’n terloopse een te wees. Maar Gys het ander planne gehad, en nie net in Springgety nie. Hy het besluit om sommer Fortuin ook te kaap om sodoende sy storie te vertel.”

Hierna volg Boheem (2009), Meetsnoer (2010) en Dryfhout (2011), almal met Gys as speurder. Al drie titels is in 2016 en 2017 heruitgegee. In Boheem ontmoet die leser vir Kayla Cilliers wat drie jaar na die moord op haar man na die kunstenaarskolonie Bohemia gaan nadat sy ’n skryfkompetisie gewen het. Kort na haar aankoms kom sy op ’n lyk af en is daar mense wat wil verhoed dat sy hierdie skotvry daarvan afkom en moet Gys Niemand weer al sy speurvernuf inspan om die skuldiges aan die pen te laat ry.

In Die Burger (19 Oktober 2009) skryf François Bloemhof dat as daar iets is waarvan lesers seker kan wees, dit is dat Chanette Paul kan skryf. “Sy bly produktief, sonder insinkings in die gehalte van haar werk.”

Vir Bloemhof was dit ’n probleem dat die romanse en spanningsverhaal in Boheem so verweef is, want soms het dit gevoel asof die twee elemente met mekaar bots.

“Daar is baie mense vir wie bostaande 'beswaar' oor die vermenging van genres nie sal geld nie; die skrywer se getroue lesers behoort die boek baie te geniet. Verder – hoeveel Afrikaanse vroueskrywers is daar dan nou wat hul voet op spanningsterrein waag? Na my beste wete is dit ook slegs dié skrywer wat dit tans plaaslik waag om daardie twee genres te kombineer, en daarvoor verdien sy vir seker krediet.”

Hoewel die boek lank is, is die intrige verwikkeld genoeg dat dit die leser se aandag sal behou. Bloemhof gaan voort: “Dit is ook gul gepeper met fyn humor en waarnemings wat van navorsing spreek.”

Op Crime Beat vertel Chanette in Desember 2010 aan Karin Brynard dat die hele kwessie van die jaar 2012 wanneer na aanleiding van die Maja-kalender van 5 120 jaar tevore die einde van die mensdom gaan begin, haar verbeelding aangegryp het. Meetsnoer is egter lank voor 2012 begin en hierdie kwessie was dus nie die ding wat die boek geïnspireer het nie. Oor die jare was daar ook baie profete wat die einde van die aarde en die oordeelsdag voorspel het. In Meetsnoer word daar geskryf oor só ’n profeet en die sy aanhangers. Meetsnoere dui ook op die standaarde waaraan buitestanders vir Raine Quinn, die hoofkarakter, meet, en haar reaksies daarop. En dan, aan die einde van die boek, die standaarde waaraan sy haarself, haar naaste, haar huidige lewe, asook haar toekoms, meet.

Die kerk waaroor dit in Meetsnoer gaan, is die Meetsnoer-kerk en dit, saam met die broederkerke, is almal die uitvloeisels van Chanette se verbeelding. Dit is gegrond op min of meer dieselfde kerke in die werklike lewe. Haar navorsing was redelik uitgebreid en tydens haar soektog het sy op webwerwe afgekom waarop haatspraak en fanatisme hoogty gevier het en haar geweldig geskok het.

Om ’n boek met godsdiens as ’n hooftema aan te pak, is altyd ’n waagstuk en baie sensitief. Dit is ook nie iets wat normaalweg in ’n romantiese spanningroman aangepak word nie. Maar vir Chanette het nie daarvoor teruggedeins nie, want haar geloof is dat enige tema in ontspanningsfiksie kan voorkom, solank dit ontspanningsfiksie is. Sy vertel verder aan Karin Brynard: “Ek hoop ek kry dit met Meetsnoer reg om nie idees af te dwing nie en om objektief te bly. Ek hoop dat dit steeds net ’n storie bly wat ’n mens wegvoer van die werklikheid en jou na ’n ander, verbeelde realiteit neem. As dit die leser ’n bietjie laat nadink, is dit ’n bonus.”

Oor die finale titel in die reeks, Dryfhout, skryf Jaybee Roux (Beeld, 25 Julie 2011): “Sommige karakters, soos Gys en Fortuintjie, draf gemaklik in al vyf boeke rond. Maar nuwelinge en vars intrige is daar genoeg in dié grande finale.

“Die heldin is Aengel Rousseau en Roarke is die volmaakte romantiese held. Natuurlik sorg Paul as gesoute romanse-skrywer dat dié twee rede het om nie dadelik in mekaar se arms te val nie, al gril ’n mens ’n bietjie wanneer die heldin se mond uiteindelik deur die held ‘geplunder’ word. Sulke clichés is gelukkig min.

“Wat die storie self betref: Aengel kom nie met haar Bolandse familie oor die weg nie en vestig haar in Kierangbaai. Sy leer gou die ander inwoners ken. Vier van hulle word een ná die ander vermoor en amper enigeen van die karakters met hul probleme en intrige kan skuldig wees.

“Die wisselwerking tussen hede en verlede boei. Die dagboeke van Angelique d’Avignon, Aengel se voorsaat, speel ’n belangrike rol in die verklaring van die legende van Annie, oor wie ons in Springgety gelees het. Dié aspek snoer al vyf titels finaal saam en pas by die ou porseleinskerwe waarna Roarke so soek op die strand.

“Paul weet hoe om spanning en romanse in ’n ligte, leesbare storie te kombineer. Die mites en legendes verskaf ’n magiese ondertoon wat haar werk laat uitstyg bo die gewone speur-prul. Watter boek die hoogtepunt van die reeks is, is seker persoonlike voorkeur, maar ek glo Paul bewys met Dryfhout vyf is presies die regte getal boeke vir ’n reeks soos dié.”

Oor haar wegswaai van suiwer romantiese verhale na romantiese spanningsverhale vertel Chanette aan Karin Brynard op Crime Beat dat spanningsromans nog altyd ’n leesvoorkeur by haar was. Sy het al in 1999 Wip van die droomvanger geskryf, maar toe was mense nog nie so gaande oor Afrikaanse spanningsverhale nie, al was Deon  Meyer toe al op die toneel.“Omdat ek om den brode skryf, het ek teruggegaan na suiwer romantiese verhale. In 2006 het ek egter die historiese Davel-reeks klaargemaak en toe besluit om aan die diep kant in te spring en weer te probeer. Die Gys-reeks is die resultaat al was dit nie aanvanklik bedoel om ’n reeks te wees nie.”

En die resensente stem saam. Oor Meetsnoer skryf Stephanie Nieuwoudt op LitNet: “ ... Al lyk Paul se boeke in die Gys Niemand-reeks na speurverhale, en al loop die spanning soms so hoog dat die leser asem ophou, is Paul gesteld daarop dat haar boeke suspense-verhale is.

“Volgens Paul is die speurder in die suspense-verhaal ’n sekondêre karakter. Die hoofkarakter is nie ’n opgeleide speurder nie, maar is ten nouste by die saak betrokke. Die leser van die suspense-verhaal het gewoonlik ook meer insae in die moord en die moordenaar as die hoofkarakters. En natuurlik is daar ’n sterk romanse aan ‘t ontwikkel.

Meetsnoer is die vierde boek in die Gys Niemand-reeks. In al die boeke probeer die speurder Gys Niemand en sy kollega Fortuintjie om ’n moord op te los. En soos in al die vorige boeke is die milieu waarin die verhaal afspeel, prentjiemooi.

“Raine Quinn trek in die sprokiesmooi huis op die pragtige landgoed Fluisterbos in. Sy het die huis gekoop nadat die eksentrieke, interessante Joanie vermoor is. En langs Fluisterbos is die stuk grond waar ’n sekte, onder die leierskap van Profeet Sias, wortelgeskiet het. En Sias wil Fluisterbos in die hande kry. Intussen moet Raine ook nog sin maak van haar gevoelens oor Flint, die aantreklike susterskind van die vermoorde Joanie.

“Paul skroom nie om te skryf oor omstrede dinge nie. In Fortuin word byvoorbeeld ’n vorm van Wicca bedryf en die skrywer gaan simpatiek met die alternatiewe godsdiens om; in Meetsnoer word ’n sekte van naderby bekyk gewis minder simpatiek.”

Chanette se navorsing beïndruk vir Nieuwoudt. “In Meetsnoer draai ’n groot deel van die gebeure om ’n oerplant, Annie-se-lot, ’n soort varing. Sy het deeglik navorsing gedoen oor die voortplantingstelsel van varings, en hoe die plante oorleef, maar vir die doel van die verhaal, het sy, soos sy in die outeursnota skryf, nie die feite in die pad van haar verbeelding laat staan nie. ’n Mens is half teleurgesteld dat daar nie werklik so ’n besonderse plant bestaan nie.

“Sy slaag daarin om die spanning enduit vol te hou. Sodra jy dink jy het nou agter die kap van die byl gekom oor wie ‘goed en wie ‘sleg’ is, wag ’n verrassing en laai die spanning weer op.

“Dis dié karakters wat elke nuwe boek in die reeks soos ’n tuiskoms na bekendes laat voel. Dis jammer Paul neem met haar finale boek in die reeks, Dryfhout afskeid van Gys, Fortuintjie en Gertjie.

“En mag Paul se naam ook in die toekoms onthou word wanneer daar oor die misdaad- of spanningsverhaal geskryf word. Want al beskryf sy haar werk as suspense, speel sy op dieselfde veld as ander skrywers wat bekend is in die misdaad- of spanningsgenre.

Oor die suspense-verhaal verduidelik Chanette aan Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 27 Oktober 2010): “In Afrikaans word die term spanningsroman te wyd gebruik om regtig ’n onderskeid te tref soos in Engels, waar daar onder meer onderskei word tussen ‘suspense novels’ en ‘detective nov­els’. Daar is natuurlik ook baie ander subgenres in die misdaadgenre.”

“As mens wil hare kloof, is daar ook ’n onderskeid te tref tussen ‘romantic suspense’ en ‘gewone suspense’. Die beste waarmee ek vorendag kan kom (en dis onbevredigend), is romantiese spanningsroman. In ‘romantic suspense’ is ’n vlegsel van twee storielyne, naamlik die romantiese lyn en die spanningslyn. Albei behoort ewe sterk en verweef te wees. Dit wat op romantiese vlak gebeur, moet ’n uitwerking hê op die spanningslyn en andersom. Gesamentlik laat dit die protagonis ook ’n emosionele reis beleef. Waar die speurverhaal om die speurder draai, is die speurpersoon en hoofkarakter (nie ’n opgeleide speurder nie) in ‘suspense’ nie sekondêre karakters nie. In die ‘suspense’-verhaal weet die leser gewoonlik meer as elkeen van die karakters en word dus self ’n speurpersoon.”

In 2012 word Chanette se Maanschijnbaai-tweeluik gepubliseer. Jo en Sue is die eerste en Nana en Jeannie die tweede. Hierdie twee was só gewild dat hulle op ’n stadium beter verkoop as die topverkoper Fifty Shades of Grey. Jo en Sue het in 2012 die Lekkerlit-toekenning ontvang. LAPA Uitgewers het hierdie prys ingestel waardeur lesers gevra watter boek hulle die voorafgaande jaar die meeste geniet het.

Vier verskillende vroue, almal Calitze, word in bogenoemde twee boeke aan die leser bekendgestel. Elkeen is op ’n ander stadium van hulle lewe en elkeen het haar eie eienaardighede, maar bowenal het elkeen ’n verlede, met ’n hoofletter V. Die vier beland op Maanschijnbaai nadat Casper sy turkoois huis aan hulle bemaak het. Die mense van die stranddorp wil die huis laat platslaan, maar vir die vier vroue is dit ’n heenkome.

Hulle meen dat as hulle die ou krot van ’n huis weer leefbaar kan maak, sal dit hulle help om weg te kom van hulle verlede. Jo was in ’n verhouding betrokke wat haar nie net finansieel geruïneer het nie, maar ook geestelik; Sue moet op ’n manier van al haar vorige minnaars wegkom; Nan het haar werk verloor en Jeannie moet ontsnap van die Maidens of Sappho. Maar so maklik raak hulle nie van die verlede ontslae nie, want op Maanschijnbaai is daar iemand wat nie daarvan hou dat die “vier slette” Casper se erfgenames is nie.

Op LitNet wou Naomi Meyer by Chanette weet watter van die vier Calitze haar gunstelingkarakter is. “Dis dalk ’n geykte antwoord, maar dis werklik dieselfde as om vir ’n ma te vra watter kind die liefste het. Elkeen van die Calitze het ’n baie spesiale plekkie in my hart. Jo het die storie aan die gang gesit met die finansiële en emosionele flaters wat sy begaan en in aller yl probeer regstel, maar dan net al dieper in die moeilikheid beland. Haar deursettingsvermoë beïndruk my en ek hou van haar sagtheid wat tog deur staal gerugsteun word.

“Daarna het Nan en Jeannie hulle opwagting gemaak. Ek het dadelik ’n baie teer plekkie ontwikkel vir Nan, wat haar familie so bo alles, ook haarself, stel sonder om sentimenteel te wees daaroor of erkenning te verwag. Ek was egter baie bly vir haar onthalwe toe sy in die tweede boek ’n bietjie meer na haar eie belange begin omsien het.

“Met Jeannie het ek gesukkel. Ek kon die klein snip aanvanklik nie kleinkry nie, maar die kwesbaarheid agter die veroordelende houdinkie het my simpatie gewen. Veral in die tweede deel van die tweeluik het ek haar bitterlik lief gekry, omdat ek haar toe soveel beter leer verstaan het.

“Sue was die laaste Calitz wat haar in my storie ingewurm het, en soos Sue maar is, het sy dit met ’n bang! gedoen. Ek het dadelik van haar gehou, al is sy so ’n pes waar dit mans aangaan. Weer eens was daar ’n kwesbaarheid wat haar hardegatgeid onderlê, en dit veral, maar ook haar eerlikheid en reguit manier van sê en doen, het my hart verower.

“Tog het ek in die begin baie baklei teen Sue se toetrede. Ek kon sien sy gaan my storie in heel ’n ander rigting stuur as wat ek beplan het. Nou is ek haar egter ewig dankbaar dat sy haar opwagting gemaak het. Ek dink Sue sit die pit in die verhaal, al mag sy sommige lesers dalk affronteer met haar geswets, haar gerook en gedrinkery. Ironies genoeg, is sy baie lesers se gunsteling.”

Oor die kwessie van nog ’n Maanschijnbaai-titel sê Chanette aan Naomi Meyer op LitNet dat die Calitze baie gelukkig is waar hulle is. “Ek dink nie ek gaan verder met hulle lewens inmeng nie. Ek is dit aan hulle verskuldig om hulle in rus en vrede op Maanschijnbaai te laat voortwoeker.

“Voorlopig is ek eers weer terug by spanningsromans. Labirint  is reeds op die rak en ek het onlangs begin skryf aan nog ’n enkelstaande spanningsroman, al is dié nou weer geskoei op ’n heel ander soort spanningslyn as die voriges.

“Dis vir my ’n groot verligting dat my lesers aanvaar ek skryf uiteenlopende stories en kan nie uitsluitlik aan een genre gebind bly nie. Die goeie terugvoer wat ek kry oor sowel ’n reeks soos die Daveltjies as die Gys-boeke, en veral nou die Calitz-slette, laat my vry voel om te skryf ongeag die soort storie wat na my kant toe kom. Dis dan ook die lojaliteit en entoesiasme van my lesers wat van die Maanschijnbaai-tweeluik ’n sukses maak.”

Labirint  vertel die verhaal van Vasti de Leeuw, ’n kunstenaar, wie se lewe al ’n paar liederlike draaie geloop het, skryf Marinda Ehlers op LitNet.

Sy was nog ’n skooldogter toe haar ma oorlede is nadat sy onder die ploegskaar beland het terwyl haar pa die trekker bestuur het. Terwyl sy ’n student was, raak sy betrokke by ’n man wat haar verkrag en swanger agterlaat. Sy trou met hom, maar die huwelik werk nie uit nie. Ná sewe jaar pla Dolf Verster haar nog altyd oor die telefoon en haar senuwees is gedaan.

Net voor haar veertigste verjaardag word daar by haar blyplek by die Hartbeespoortdam ingebreek en die plek word omgekeer. Terselfdertyd word ’n hele klomp van haar skilderye ook verwoes. As gevolg van hierdie gebeure neem sy die besluit om na haar geboortedorp terug te gaan en trek in haar ouma se ou huis langs die rivier in.

Maar dit is verniet of sy ontslae kan raak van die telefoonoproepe en dinge op die rustige dorpie in die Overberg is ook nie aldag pluis nie. Nie lank na haar aankoms daar nie, word sewe mense vermoor. 

Ehlers skryf verder (LitNet): “Paul het duidelik heelwat navorsing vir hierdie boek gedoen. As jy min van kuns af weet, sal jy ’n hele paar dinge te wete kom. Ook van die Griekse mitologie. En natuurlik van labirinte en doolhowe. Die taalversorging is nie oral wat dit moet wees nie, maar dit sal die meeste lesers waarskynlik nie eens pla nie. Dit is ’n stewige roman hierdie: 540 bladsye. Aanhangers van haar werk sal sonder twyfel hierdie jongste boek geniet.”

In ’n onderhoud op Chanette se webwerf wou JB Roux weet hoe sy voel oor die dikwels vergeefse pogings van  uitgewers om gewoonlik heelwat geld te bestee en baie moeite te doen om digbundels wat in klein oplae gedruk word, uitverkoop te kry. En dieselfde moeite word nie gedoen om ontspanningsverhale te bemark nie.

Dit laat Chanette effe vieserig voel, maar nie briesend nie. “Dié soort voorkeurbehandeling spreek van elitisme en die leser word nie geag nie. Dis met goeie rede dat daar net oplae van 300 gedruk kan word. Dit dui daarop dat daar hoogstens 300 moontlike kopers is, met net ’n bietjie meer lesers as ’n mens biblioteke en boekklubs in ag neem. Lig daardie 300 kopers in oor die werk, gee dit gepaste blootstelling, ja, maar nie ten koste van ander genres wat dit juis moontlik maak om digbundels te druk nie. Dit geld nie net digbundels nie, maar dikwels literêre prosa ook.

“Dit maak ook nie vir my besigheidsin nie. As dieselfde geld bestee en blootstelling gegee word aan 'n boek wat sonder blootstelling ’n hele paar duisend kopieë verkoop, dink net hoe goed kan dit doen as dit behoorlik onder die lesers se aandag gebring word.

“Ek dink egter nie dis die uitgewer per se wat die wortel van die kwaad is nie. My ondervinding met my uitgewers spesifiek is dat hulle moeite doen met al hulle boeke. Hulle loop hulle egter allerweë vas met die media wat ontspanningsfiksie betref. Ek skiet myself dalk nou in die voet, maar ek lê die skuld hoofsaaklik voor die deur van elitistiese boekebladredakteurs wat by uitstek konsentreer op literêre publikasies en hulle merendeels afvee aan enigiets wat na ontspanning lyk. Selfs wanneer daar wonder bo wonder wel ’n resensie van ’n ontspanningsroman is, word dié veels te dikwels oorgelaat aan ’n resensent wat nie genrekundig is nie. ’n Goeie voorbeeld daarvan was ’n resensie in ’n vrouetydskrif oor Sophia Kapp se liefdesroman Die tuiskoms. Dit was vir my duidelik dat die resensent die genre nie eens begín begryp het nie. Dis logies dat resensente nie almal ewe kundig is oor sekere genres nie. Maar dêmmit, dan moet iemand wat niks van liefdesromans weet nie, nie ’n Sophia Kapp-boek probeer resenseer nie.”

Oor die oorgang van die genre van romanse na suspense het Chanette haar as volg uitgelaat teenoor JB Roux: “Die oorgang was ongelooflik moeilik. Die brug blyk toe ’n gevaarlike, hangende een oor ’n krokodilvervuilde rivier te wees - of so het dit gevoel. Enersyds was ek amper té gekonfyt in romantiese fiksie. Andersyds het ek die genre onderskat. Die grootste probleem was egter die verskil wat lengte aan die werkinge en dinamika van ’n storie maak. Dis amper soos om skielik ’n enorme vragmotor met iets soos sewentien ratte te bestuur terwyl jy aan ’n Golfie met ’n vyfspoed-ratkas gewoond was.

“In die romanse lê die spanningslyn hoofsaaklik op die vlak van die ontwikkelende liefdesverhouding. In suspense lê dit op vele eksterne en inherente vlakke. Dis nie net die wie-het-dit-gedoen-lyn nie. Suspense gaan ook oor emosies en karakterontwikkeling. En dan is daar nog die liefdeslyn wat baie meer verwikkeld is as in die romanse. Dis nou benewens die uitdaging om die leser dwarsdeur die storie te laat naels kou.

“Die meer tegniese sy het ook vir my probleme opgelewer, onder meer wat perspektief betref. In die romanse word net die heldin se perspektief gebruik en by uitsondering die held s’n. In Springgety het ek aanvanklik ook net Lily se perspektief gebruik. Uiteindelik moes ek egter die hele boek oorskryf en ook Gys se perspektief inspan om die storie tot sy reg te laat kom. Wat beteken het dat my navorsing verdriedubbel het, aangesien ek moes agterkom hoe speursake en verwante dinge werk, maar daarbenewens moes ek ook probeer om in die kop van ’n man in sy vyftigs te kom.

“In Fortuin het ek amper oorkompenseer deur iets soos vyf karakters se perspektiewe te gebruik. Dit was vir my nuwe vaarwaters. Ek het boonop ’n redelik waaghalsige tema gebruik wat ek met groot omsigtigheid moes benader sonder om die impak daarvan op die storie te verminder.

“In Boheem voel ek dat ek die tegniese sy van die saak onder die knie gekry het en ek het ook baie makliker (met die klem op die -er) daaraan geskryf as die ander twee.”

Of daar enige iets is wat ontspanningskrywers self kan doen om die erkenning te kry wat hulle dalk verdien, weet Chanette nie. “Dis al asof my sporadiese gekyf op LitNet en elders, asook voorsprake wat mense soos onder meer Maritha Snyman in die pers gedoen het, uiteindelik tog 'n paar oë laat oopgaan het,” sê sy aan Roux (op haar blog). “Gesprekke soos die een oor romantiese fiksie waaraan ons deelgeneem het op die Woordfees, help ook om onkunde teë te werk (maar mens moet natuurlik eers genooi word)

“Die effek bly egter beperk. En mens vra jou af: Wat is nou eintlik my taak? Om te skryf of om onkunde te probeer teenwerk? Om my karakters tot hulle reg te laat kom in my storie of om blootstelling vir my boek te probeer kry? Want uiteindelik gaan dit weer eens oor blootstelling eerder as erkenning. As mens ingeligte blootstelling kry, sal erkenning volg of nie volg nie, afhangende van hoe goed jy jou van jou skryftaak kwyt.

“Uiteindelik dink ek die belangrikste is dat ons as ontspanningsromanskrywers aanhoudend aan ons skryfwerk slyp, werklik erns daarmee maak en ja, aanhou skryf - al voel dit later asof Sisufos se probleme in Tartarus 'n vulletjie teen joune is.

“Verder probeer ek die snobisme en onkunde ignoreer en my beste moontlike werk te lewer vir mense wat wel my boeke lees en dit geniet. Ek skryf my stories vir húlle, nie vir resensente of boekebladredakteurs of elitiste of wie ook al anders nie.”

In 2013 word Siende blind gepubliseer en vir die tweede agtereenvolgende jaar gaan die LAPA Lekkerlit-toekenning na Chanette.

Sy het aan Willem de Vries (Die Burger, 25 Januarie 2014) gesê hoe sy oor hierdie toekenning voel: “Dit was reeds ’n heerlike verrassing laasjaar toe die eerste deel van die Maanschijnbaai-tweeluik as wenner aangewys is, maar hierdie jaar kon jy my met ’n veer omtik toe ek hoor Siende blind het gewen.” Sy beskryf die boek as “ ’n spanningsroman met ’n skeut liefde by en boonop ’n moord­storie sonder ’n noemens­waardige speurder”.

“In Afrikaans is hierdie ­vermenging van genres nog nie heeltemal gevestig nie. Die speurverhaal waarin ’n slim speurder die hoofrol speel, is baie meer ­bekend as die soort ‘woman-in-jeopardy’ boeke wat ek skryf. Siende blind het ook teen besondere sterk kompetisie te staan gekom. Dis dus vir my ’n reuse-pluimpie dat die boek hierdie jaar as die wenner aangewys is.”

Wat Lekkerlit vir haar “besonder spesiaal maak”, is dat dit die lesers is wat stem. “Dis immers hulle wat die boeke koop en dis hul goeie reg om te kan stem vir hul gunstelinge. Daarbenewens sê hul stem vir my ek is op die regte pad. Dit sê ook vir my dat hulle my vergewe vir die genre-spronge wat ek maak. Dit gee my die moed om aan te hou en my karakters en stories te bly vertrou, al is dit tot ’n groot mate baanbrekerswerk in ’n bedryf met baie slaggate.”

Chanette meen ook dat daar nie genoeg pryse en toekennings is vir die genre ontspanningsfiksie nie. “Buiten Lekkerlit is daar ­omtrent net die ATKV-Veertjietoekennings, en die kategorieë daar is redelik beperk. Ek hoop hierdie inisiatief van Lapa om aan lesers ’n stem te verleen, sal van krag tot krag gaan en dat die opbloei in Afrikaanse genrefiksie nog heelwat meer geleenthede vir erkenning sal skep.”

Siende blind is die eerste in ’n drieluik wat afgesluit word met Raaiselspieël en Ewebeeld.

Op Protea Boekwinkel se webwerf word die storie van Siende blind so opgesom: “Op ’n Sondagoggend terwyl hulle ontbyt maak, vra Cara haar sielemaat en eggenoot van twintig jaar waarom hy die afgelope so stil is. Sy kry ’n sielsverbysterende antwoord. Vir haar voel dit soos die einde van alles wat vir haar betekenis inhou. Dis egter net die eerste tand van die duiwelsvurk wat haar veilige kokon deurboor. Haar hele lewe verander in ’n blivet, daardie optiese illusie waar twee onversoenbare perspektiewe tegelykertyd ewe daar, en nié daar is nie. Om te oorleef, moet Cara vasstel waarom sy die teiken is van die oormag rampe wat haar tref – en wie die hef in die hand het. Maar as rykmansdogter en fiksieskrywer wat glo in gelukkige eindes, is sy allesbehalwe toegerus daarvoor.”

Sophia Kapp, romanskrywer, se aanbeveling lui as volg: “Ek het teen die einde daardie tipiese paniek-lees ervaar wat ’n mens kry wanneer ’n storie jou so meegesleur het dat dit letterlik voel asof jy oor ’n waterval getrek word: Daar is net nie keer nie.”

Carla van der Spuy vra op LitNet aan Chanette: “Jy vertel in die voorwoord van die boek dat jy in jou navorsing op interessanthede afgekom het, soos byvoorbeeld die blivet, en dat dit ’n ideale motief is om in die boek te gebruik. Dalk kon die woord ook ’n titel vir die boek gewees het, maar aan die ander kant impliseer ‘siende blind’ dat die boosheid reg voor ons is, maar dat ons dit dikwels nie raaksien nie. Vandaar dalk die titel?”

Chanette se antwoord: “Blivet is ’n te volksvreemde woord vir ’n titel in hierdie genre. Aanvanklik was die titel Duiwelsvurk, die Afrikaanse vertaling wat vir blivet aangegee word. My uitgewer was heeltemal tevrede daarmee en ek het dink dis baie toepaslik. Terwyl ek nog geskryf het, verskyn daar toe ’n boek met die titel Duiwelsklip. Kort voor ek my manuskrip klaar het, verskyn daar nog ’n boek. Die titel? Duiwelsasem. Toe weet ek: dit gaan nie werk nie. Ek moes vinnig dink, want die manuskrip was al in die drukgang van publikasie.

“Terwyl ek speel met idees rondom oëverblindery, kom die titel Siende blind toe by my op. Ek het dadelik geweet dis eintlik ’n baie beter titel en pas soveel lekkerder by my storie. Want dis presies wat die blivet aan die oog doen: die optiese illusie verblind jou terwyl jy dink jy kan sien.”

Carla van der Spuy wou weet of die leser baie van ’n skrywer se voorkeure en renonse kan aflei uit die storie wat die skrywer skryf.

Chanette se reaksie was: “Dis ontstellend hoe kwesbaar die skrywer voor die fyn leser staan. In my manuskripontwikkeling het ek agtergekom hoe duidelik die mens agter die storie deurskemer. Dit het weinig te doen met outobiografiese gegewens; dit is die lewensingesteldheid wat so duidelik spreek. Veral in rou stories wat nog nie deur die meul van redigering en dies meer is nie. In sommige gevalle kan ek sien die skrywer is sagmoedig en deernisvol, in ander kan ek sien dis ’n harde kalant hierdie, maar sy etiek sit op die regte plek. Sommiges verklap versugtinge wat mens aan die huil wil sit. En dan is daar dié wat my regtig laat skrik.

“Ek dink Cara verklap heelwat van my, alhoewel ons in die meeste opsigte baie van mekaar verskil. Een van die trekke wat ons deel, benewens die liefde vir wyn, is inderdaad dat ek ook mense te maklik vertrou. Ek is al baie beter – daar kom darem ’n bietjie wysheid met die ouderdom saam – maar dit is so dat ek, soos Cara, makliker raaksien wat goed is in ’n mens as wat dalk boos kan wees.”

In Beeld van 5 Augustus 2013 skryf Erika de Beer dat Siende blind die leser nooit vervelig laat nie. Hierdie familiedrama, roman én riller, toon dat Paul beslis weet hoe om ’n verhaal te laat vloei. Nie alleen getuig dit van grondige navorsing nie, maar dit is ook duidelik dat die skrywer daarin geslaag het om beheer oor haar karakters uit te oefen.

In 2014 verskyn Raaiselspieël, die tweede deel van die drieluik. Die hoofkarakter is vet Frieda Ferreira wat na agt jaar getroude lewe nog nie weet hoekom die beroemde professor Victor Ferreira met haar getrou het nie. Sy sien van kleins af beelde en hoor stemme, maar weet nie wat haar makeer nie. Dan moet sy ook nog probeer om haar pa se moord op te los, al sit die skuldige in die tronk. Sy het nie eintlik ’n keuse in die saak nie, want haar pa, Nils van der Sluis, ’n moeilike Belg wat sy geld gemaak met die skilder van vet vroue, dring daarop aan, al is hy al dood.

Chanette skryf oor Raaiselspieël op haar blog: “The arts then act like a reflecting mirror. The artist is like the hand that holds and moves the mir­ror ... (Ngugi)”

“Bogenoemde aanhaling is ’n gedeelte van die motto voor in Raaiselspieël. Kuns en spieëls vorm inderdaad belangrike simbole in hierdie verweefde spanningsroman. Paulus se Bybelse versugting dat dinge aan hierdie kant van die dood bloot ’n dowwe spieël is in vergelyking met die lewe ná die dood, moet ook nie geïgnoreer word nie. Nils van der Sluijs, die befoeterde Belg wat ryk en beroemd geraak het danksy sy vetvrouskilderye, is dood. Daar is reeds ’n man agter tralies, maar Nils is skynbaar nie tevrede dat dit die regte persoon is nie en nou praat hy met sy dogter, Frieda, deur vir haar beelde en flitse te wys. Uiteindelik is daar ook die kwessie dat ’n aantal van sy skilderye skynbaar meer openbaar as kaal lywe; mense is selfs bereid om te moor sodat hulle daardie skilderye in die hande kan kry.

“In die gemoed van sommige Afrikaners word Siener van Rensburg en Johanna Brand se heldersiendheid as belangrik beskou. Raaiselspieël tree in gesprek met hierdie twee sieners en vra die leser om die talle simbole, wat stuk-stuk nagespeur word, uit te pluis saam met Nils se dogter, Frieda, en sy biograaf, Stas Stassen – ’n toenmalige uitgewer.

“Dit is vir die leser, soos vir die fiktiewe biograaf, nodig om bewustelik ’n ‘suspension of disbelief’ te openbaar tydens die lees van hierdie teks. Dit is iets wat gewoonlik onbewustelik gebeur tydens die lees van ’n goeie storie, maar hier moet alle partye harder werk om Frieda se gawe te probeer verstaan. Selfs Frieda sukkel om vrede te maak hiermee – sy weet ook nie of die beelde wat sy van kleins af sien en die stemme wat sy hoor, beteken sy is psigies of psigoties nie.

“Deur dit alles heen word die draak gesteek met akademici wat hulle beter ag as gewone mense, dink aan ’n Seder val in Waterkloof as interteks. Die leser moet maar self in die raaisel kyk om al hierdie kloutjies by die nodige oortjies te kry.”

Tydens ’n onderhoud op die US Woordfees van 2014, waar die boek amptelik geloods is, het Chanette gesê sy is baie opgewonde dat lesers van haar ligter romans nou ook die meer komplekse, verwikkelde werke geniet. Siende Blind, wat ook meer kompleks is, het só goed verkoop dat dit binne weke herdruk moes word.

Chanette gee glad nie om te erken dat sy amper uitsluitlik vir die ontspanningsmark skryf nie. Maar daar is tog iets vir die leser wat iets meer soek, want in haar tekste is daar oorgenoeg simboliek en letterkundige verwysings. En tydens ’n onderhoud met die SASNEV-krimifees het sy gesê: “Boeke is soos vye of turksvye, ek skryf vye.”

In Beeld (11 April 2014) skryf Erika de Beer dat Raaiselspieël  nie ’n speurverhaal in die gewone sin van die woord is nie, aangesien die bonatuurlike té veel na vore kom. En dit bewys net weer dat Chanette Paul met ’n goeie storie die leser se aandag vasgevang kan hou, want al beslaan die storie 500 bladsye, kan ’n mens die boek kwalik neersit. Haar skryfstyl vloei, maar vir De Beer het die manier om sinne sonder onderwerpe te skryf, gehinder.

Chanette was onlangs in die nuus toe van haar boeke wederregtelik afgelaai is van die internet sonder dat sy daarvoor betaal is. Oor hierdie praktyk laat sy haar uit teenoor Carla van der Spuy op LitNet: “Ek wil net hê mense moet bedag wees daarop dat daardie boeke wat hulle gratis of goedkoop aflaai, vernietigend is vir ’n skrywer. Veral een wat in Afrikaans skryf. Ons het rééds die agterspeen beet. Ons skryf in ’n taal met betreklik min moedertaalsprekers, en boonop is daar nie ’n sterk leeskultuur hier gevestig nie. Boeke is duur omdat die oplae so klein is, daarom koop mense tweedehandse boeke waarop die skrywer nie ’n sent maak nie. Ons leen onder mekaar uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak nie.

“Ons neem boeke by biblioteke uit, waarop die skrywer nie ’n sent maak behalwe by die oorspronklike aankoop daarvan nie. In die meeste ontwikkelde lande kry die skrywer ’n klein, gesubsidieerde bedrag elke keer as ’n boek in ’n biblioteek uitgeneem word. Baie soos die tantieme wat betaal word elke keer as ’n musieksnit op die radio, in eetplekke en dies meer gespeel word. In Suid-Afrika nié.

“Ek neem lesers nie kwalik dat hulle boeke op die goedkoopste moontlike manier bekom nie, maar as iemand met die slim plan vorendag kom om boonop my e-boeke te kaap en dit vir eie gewin, trek ek die streep. As so iets sou eskaleer, sal skrywers desnoods moet ophou skryf en hulle verdienste elders moet kry. Die meeste van ons het alreeds júis ’n ander werk wat die pot aan die kook moet hou. Daar is uitsonderings soos skrywers wie se werk vertaal word en geld maak uit hulle oorsese verkope, en daar is die gelukkiges wat mans of vrouens het wat hulle onderhou. Maar die meeste van ons kan nie voltyds skryf nie, omdat ons nie op tantieme alleen kan oorleef nie.

Hierdie soort diefstal sal mens seker nooit heeltemal kan keer nie, maar deur my sterk daarteen uit te spreek, weet almal waar hulle met my staan. Die betrokkenes gaan vervolg word deur die uitgewery in samewerking met SAFACT, wat hulle toespits op die bekamping van roofkopiëring. Ek hoop dit skrik dié af wat dieselfde truuk wou gebruik.”

In 2014 verskyn Chanette se volgende roman, Ewebeeld. Vir Chanette gaan dit in Ewebeeld primêr oor die houvas wat een persoon oor ’n ander kan hê. “Die soort houvas wat so geleidelik ontwikkel dat dit die slagoffer blind maak vir wat eintlik aan die gebeur is. Prince Charming wat Bloubaard word sonder dat die prinses dit agterkom,” verduidelik sy aan Naomi Meyer op LitNet. “In elk geval nie voor dit te laat is nie. Emosionele mishandeling is eintlik ’n onderliggende tema in die meeste van my boeke, maar hier pak ek dit doelbewus aan. Ek gebruik tot ’n mate die hiperbool om uit te lig wat daagliks in heeltemal te veel huwelike en verhoudings gebeur. Een party word afgekraak, ontmens sodat die ander in beheer kan voel.

“In Ewebeeld gaan dit oor die mag en beheer wat ’n man oor ’n vrou kan hê, maar dit kan uiteraard ook andersom wees, of twee mense van dieselfde geslag.”

Vir Chanette was die moeilikste deel by die skryf van Ewebeeld om, op tegniese vlak, Lanie se verlede en die hede soos dit in die verhaal gebeur, bymekaar uit te bring. “In ’n spanningsverhaal kan jy nie begin by die begin nie. Jy val halfpad in die storie in en moet tegelyk agtertoe en vorentoe werk – veral as dit wat gaan gebeur, ’n voortvloeisel is van wat voorheen gebeur het. Daar was baie dinge wat daartoe gelei het dat Lanie in Ludolf se kloue beland het en dit was nie maklik om dit op so ’n natuurlik wyse as moontlik in te pas nie.

“Op storievlak was dit moeilik om my werklik in Lanie se skoene te probeer indink. In ’n stadium kon ek haar stem nie meer hoor nie – dalk omdat sy soveel jonger is as my meer onlangse hoofkarakters. Of dalk omdat ek haar soms aan haar maer skouertjies kon skud. Ek moes hard werk daaraan om [sy] te word, maar ons het mekaar uiteindelik wel gevind.”

Chanette vertel aan Naomi Meyer dat sy meestal stories skryf wat hoofsaaklik op haar karakters fokus. In Ewebeeld is dit ook so, “maar ek dink die intrige en die tema spreek heelwat harder as voorheen. Ek dink dit versterk die spanningslyn, maar dit was moeilik om nog steeds genoeg aandag aan karakterisering en karakterontwikkeling te gee.”

In Ewebeeld ontmoet die leser vir Lanie du Toit, Ludolf von Fürstenberg se derde vrou. Sy lyk baie na sy vorige twee vroue, wat albei oorlede is. Ander karakters in die spanningsverhaal is Roux, ’n kunstenaar wat met loodglas werk, en Jojo Richter, die speurpersoon.

Vir Riëtte Grobler is Chanette se karakters mense van vlees en bloed, “van hul unieke geite tot hul bagasie, infleksies en maniërismes. (...) Omdat baie mense betrokke is, begin jy in ’n stadium wonder hoe op dees aarde alles bymekaar gaan kom. Maar Paul hou die leisels stewig vas, knoop die spanningslyn geleidelik al stywer en los in die ontknoping alle raaisels op waaroor jy dalk sou wonder. Paul is ook op ’n ander manier ’n vernuftige woordargitek. Daar vloei geboue en plekke uit haar pen dat dit later vir jou begin voel jy was dalk al self daar. Sy is ook ’n skrywer wat weet hoe om navorsing te doen en die verhaalwêreld daardeur soveel meer geloofwaardig te maak.” (Die Burger, 22 November 2014)

Te danke aan Ewebeeld is Chanette in 2015 vir die derde maal aan die ontvangkant van LAPA se Lekkerlit-toekenning. Oor hierdie prys sê sy op LitNet aan Naomi Meyer dat hierdie driekuns vir haar besonders is: “Dit laat my voel die eerste twee was toe darem nie net vloekskote nie. Daar was elke jaar sterk kompetisie, maar hierdie keer het ek regtig nie gedink ek gaan die paal haal nie.”

In 2015 word die eerste van Chanette se Offer-romans gepubliseer, onder die titel Offerlam. Dit is in Engels en Nederlands vertaal.

Vir Helen Schöer (Die Burger, 14 November 2015) is dit die eerste boek van Chanette wat sy lees, maar beslis nie die laaste nie.

In Offerlam takel Chanette ’n gróót storie, wat drie generasies en drie vastelande (Suid-Afrika, België en die destydse Kongo) bymekaarbring. In die storie is ’n 53-jarige Suid-Afrikaanse vrou, Caz Colijn, die middelpunt. Sy moet onverwags na België toe om haar vervreemde ma wat op sterwe lê, te gaan besoek.

In België wag daar heelwat onaangename verrassings op Caz en word sy by verskeie polisiesake betrek, en word sy ook as verdagte in haar suster se moord beskou. Die romanse bly nie agterweë nie en daar is ook ’n professor wat teen sy eie sin in Caz begin belangstel.

Schöer skryf: “In dié lekker mengsel het Paul ook ’n tikkie Afrikamistisisme en ’n sak vol diamante gegooi, en asof dit nie genoeg is nie, neem sy jou op 'n reis deur België (en in n mindere mate ook deur die Kongo).

“Die boek het regtig vir my ’n unieke stem. Die taalgebruik voel plek-plek ietwat outyds – ek verbeel my dis ’n Vlaamse invloed – maar dit werk goed. Paul gebruik woorde wat ’n mens ken maar al van vergeet het. (...)

“Offerlam se einde is regtig net ’n pouse in die aksie, ’n plekkie van tydelike verligting. Die booswigte is nog steeds op vrye voet en sonder twyfel is daar groot fout met Caz se dogter se kêrel. (...) Daar is ook Caz se penarie wat sy nog moet oplos met die diamante en dan is daar nog die professor ook. Ek wag dus in spanning vir die tweede deel, Offerande, se ink om droog te word.”

In Rapport van 24 Januarie 2016 is JB Roux glad nie positief oor Offerlam  nie. Nadat hy die eerste 100 bladsye gelees het, vind hy die storie oninteressant, nutteloos en dat hy beslis nie uitsien na die opvolg nie. Hy beskryf die meeste van die karakters as 'onopwindend' en sluit sy bespreking as volg af: “Dis nooit lekker om ’n gevestigde en bewese skrywer se werk neer te skiet nie, maar boeke is duur en lesers moet gewaarsku word teen ’n mislukking soos hierdie. Hierdie keer het Paul heeltemal uit die bus geval.”

Met hierdie resensie het JB Roux ’n ligte herrie in die pers en op LitNet veroorsaak. Deon Adriaanse het in Rapport (31 Januarie 2016) geskryf dat so ’n resensie nie gepubliseer moes gewees het nie, aangesien dit nie as ’n resensie beskou kan word nie.

Ook Daniel Hugo het sy misnoeë te kenne gegee. In Beeld (28 Januarie 2016) skryf hy: “Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat lesers 'gewaarsku' word teen ’n boek wat op geen manier – polities, seksueel of godsdienstig – grensoorskrydend is nie.”

Dit het ook gelei tot ’n artikel op LitNet deur Francois Verster getiteld “Oor resensiekuns, ’n stuiwer” waarop heelwat persone kommentaar gelewer het.

Op LitNet was Riette Rust die resensent: “Offerlam, wat in Suid-Afrika, die destydse Belgiese Kongo (nou die DRK) en België afspeel, werp lig op die beheer wat België oor die Kongo gehad het. Kolonialisme, wat met magsug, hebsug en heerssug gepaard gegaan het, word kundig ondersoek. Die karakters word uitgebuit. Die woord 'offerlam' suggereer juis die gebrek aan respek vir ander se lewens.

“Die skrywer lewer gebalanseerd kommentaar op die misdaadsituasie in Suid-Afrika. (...) Daarby word die uitdagings wat sogenaamde veelrassigheid bied, bekyk en word Sandra Laing, die biologiese bruin kind van wit ouers, se geskiedenis só in herinnering geroep.

“Offerlam word geslaagd uit vier perspektiewe vertel. Die verskillende karakters het almal outentieke stemme. Paul kry dit besonder goed reg om in veral Erevu, die Kongolees, se wese te klim. Nie maklik nie – hy is immers ’n man wat dink dat sy land deur die wit diewe van Afrika gesteel is! (...)

“Daar is nie veel wat pla nie. Dalk net enkele 'toevallighede' (sien resensie vir dié 'toevallighede'). Paul se taalgebruik skitter en sy geur die teks gepas met Nederlandse en Vlaamse woorde. (...) Jy sal die roman nie wil neersit nie. Daar is enkele los drade, daarom kan jy uitsien na die opvolg, Offerande. Dis beslis die moeite werd om geld aan dié tweeluik te bestee. Neem byvoorbeeld hierdie paragraaf wat na aanleiding van ’n telefoonoproep geskryf is en aan Ingrid Jonker se 'Die kind' herinner: 'Die diep sug ruis in haar oor. ’n Sug wat in Gent begin, reis deur België, oor die helfte van Europa, oor die lengte van Noord-Afrika, Sentraal-Afrika, Suider-Afrika tot by die kothuis aan die voet van die Overbergse Kleineberge.”

Offerande, die vervolg op Offerlam, verskyn in 2016, en vir lesers wat nie kon wag om te lees wat van Caz geword het nie, was dit ’n welkome gesig op die boekrakke van boekwinkels.

Caz is inderdaad terug, en saam met haar is daar ’n groot klomp diamante. “Is dit waarom haar eksman skielik opdaag? Is dit waarom ’n Kongolese vrou haar as ’n kunshandelaar voordoen en 2000 Euro's vir dáárdie beeldjie aanbied? Is dit waarom daar op bladsy 100 reeds talle lyke rondlê?” wil Ronel Nel in Rooi Rose van November 2016 weet.

“Soos altyd skryf Paul ten eerste om te vermaak maar enigeen wat al ooit ’n bietjie dieper gekrap het, weet ook dat daar baie vlakke in haar werk is. Offerande ondersoek identiteite soos min ander. Wie is ’n Afrikaan en wie is ’n Europeër? Is dit jou velkleur, jou ouers, of jou paspoort wat dit bepaal?

“Caz en haar dogter gaan op soek na waar hulle vandaan kom en saam met die spannende storie is daar soveel brandende vrae. ’n Ernstige leser sal die dikke roman weer wil lees om die nuanses en die fyn webbe van die woord raak te sien.”

Louise Viljoen van Jeffreysbaai gee haar indrukke as leser van Offerande op LitNet: “In Offerlam dek Paul die tafel meesterlik met ’n komplekse, weldeurdagte en waagmoedige verhaal wat handel oor Caz Colijn wat koelbloedig deur ander as offerlam geoffer word ter bevordering van hulle eie selfsugtige agendas. In Offerande span Paul die net behendig en meedoënloos stywer wanneer Caz haarself dié keer vrywillig en met liefde op die altaar plaas ten einde haar dogter te red. Voeg daarby internasionale diamantsmokkelary, ’n ekstreme rebellegroep wat rassehaat aanblaas en volksmoord voorstaan as gevolg van die vergrype wat hulle onder kolonialisme beleef het, voorvadergeeste wat op bisarre wyses vanuit die graf toutjies trek, en selfs ’n subplot waarin ongelisensieerde vuurwapens en renosterstropery ’n rol speel, en jy kom onder die besef van die oorbluffende grootsheid van dié spanningsroman.”

Viljoen is van mening dat Chanette Paul elke kompliment wat sy ontvang, oor en oor verdien. Daar is nie baie skrywers wat met 'soveel aplomb' só ’n groep karakters en newekarakters met sulke wyd uiteenlopende persoonlikhede kan verbeeld en tot hul reg kan laat kom nie: “Dít terwyl die fyngeknoeide, ineengestrengelde storielyne jou as leser reeds kiertsregop laat sit en notisie laat neem dat ’n meesterskrywer aan die woord is. Paul pak die verhaal soos ’n ervare skerpskutter aan wat met volle vertroue in haar vernuf aanlê op die teiken wat sy in haar visier gestel het. Sy vuur die skoot af en die koeël trek sekuur en seker deur ’n byna surrealistiese maar georkestreerde chaos wat nie net as randfiguur in die leser se periferiese visie huiwer nie, maar ook dreig om die leser te oorrompel en in te suig. Paul lei haar leser soos ’n opgeleide snuffelhond deur ’n mynveld tot by die laaste hoofstuk van die boek wanneer die proses van ontknopings jou laat voel dat jy nog die heeltyd met die slagpennetjie van ’n handgranaat in jou hand gestaan het. Na 502 bladsye se uitmergelende intriges, spanning en kophou, word die leser beloon deur die bevredigende wete dat elke los draad stewig vasgeknoop en deur ’n bedrewe kunstenaar in ’n artistieke dog funksionele mandjie ingeweef is.”

Wat Paul met Offerande ook regkry, is om lesers in Afrika te dwing om dieper te kyk na hulle Afrikaanskap en ook na hoe die mense se gene inmekaar pas.

Viljoen gaan voort: “Offerande vereis van die leser om na te dink oor vergifnis en al is versoening dalk nie realisties haalbaar in die volle sin van die woord nie, moontlik ’n middeweg te vind om ’n toekoms tegemoet te gaan waar die een die ander nie heeltyd wil verdelg oor dinge wat in die verlede lê en niemand ’n jota of tittel aan kan verander nie. (...)

“Paul se taalgebruik in Offerande skitter soos almasi (diamante). Woorde soos 'kurk floep', 'wyn reutel' en idiomatiese uitdrukkings soos '’n appeltjie vir die dors', 'so slinks soos die houtjie van die galg' en 'aartjie na sy vaartjie' het my telkens laat huiwer en wéér lees net vir die lekkerte daarvan. Paul se Offer-tweeluik neem sy regmatige plek in as persoonlike gunstelinge op my boekrak.”

Jojo Richter is in 2017 terug in Paaiboelie. Die roman speel af op die Crystal Crags-landgoed. Jojo word aangestel om vas te stel wat sewe jaar vantevore gebeur het toe Eduard Zwiegelaar vermoor is. Om ’n voet in die deur te kry, doen sy haar voor as ’n  barmhartige Samaritaan en help sy Eduard se weduwee, Zaan Mentz, of Lezanne Swiegelaar, om in haar nuwe huis op die landgoed in te trek. Só leer sy ander inwoners van die landgoed ken, soos Lalie Laslap, Morbid Megan die Gothic Ghostbuster, Tertia de Wet en vele ander. En dan is daar ook die paaiboelie van die titel in die 'persoon' van die haaslipseuntjie wat verdrink het en aan mense verskyn net voordat hulle doodgaan.

“Die verskyning van die paaiboelie is nie die enigste Gotiese element in dié riller van ’n roman nie,” skryf Daleen Venter op LitNet. ”Die onheilspellende atmosfeer wat op Crystal Crags heers, die raaiselagtige verdwynings, die sin(ne)begogelende Crystal Manor met sy Trompe-l'œil-muurkuns en die begroeide grondvroue in die tuin wat lyk asof hulle hulle 'probeer losworstel uit die aarde' sorg vir naelkouspanning. Die Duiwelsdriehoek se bose geheime word oopgevlek en kwessies soos verbode seksuele drange en die sondes van die vaders word blootgelê. (...)

“Paul slaag skynbaar moeiteloos daarin om ’n oortuigende stem aan elke karakter te gee, twee verhaallyne deeglik te verweef sodat ’n mens male sonder tal kopkrap, en ’n ontknoping neer te pen wat jou mond behoorlik sal laat oophang.

“Die feit dat karaktername nogal ooreenstem (Estian en Eduan; Tessa en Tertia) kan moontlik bydra tot die misterie, maar is tog verwarrend – veral as ’n mens vinnig wil lees om te sien wat op die volgende bladsy gebeur. Die leser word ook plek-plek met inligting gebombardeer, en al noop dit jou om aandagtig te lees, is daar hier en daar dele waar die dialoog langdradig is.

“Paaiboelie sal nogtans soos soetkoek deur spanningsvrate verslind word. En Jojo Richter-aanhangers sal hoop dat sy in die volgende Paul-roman weer met haar 'kwikstappie' aangestoom sal kom.”

Jonathan Amid (Die Burger, 7 Augustus 2017) is ook beïndruk met Paaiboelie. Namate hy hom verdiep het in die roman se “verkenning van die ideaal van ’n landelike Paradys wat geïsoleer staan van die wêreld buitekant, onafhanklik en goed toegerus”, het dit Amid laat dink aan Tana French se Broken harbour.

“Op ’n dieper vlak is daar beslis filosofiese onderstrominge wat ons al die pad na Sewe dae by die Silbersteins terugneem.

“Paul werk spesifiek met die idee van die Trompe-l'œil, wat vertaal as 'fool the eye', ’n kunstegniek waar die grens tussen illusie en werklikheid vervaag. Paaiboelie vra uiteindelik, te midde van die plesierige terugkeer van die amateur-speurder Jojo Richter, verskeie vertakkings van die Gotiese romanse, en ’n onverwagse dog heerlik speelse inspeel op die rol van die (ont)spanningsfiksieskrywer, wat die gevolge is wanneer die spoke van die verlede en die sondes van die vaders ons inhaal.

“Paul was al in die verlede geroskam in resensies oor die hebbelikhede van te veel karakters, te veel vertellers en die geneigdheid om die leser te oorweldig met te veel detail en verskillende storielyne. Paaiboelie trap nie in hierdie slaggate nie.

“Lesers sal dalk met my saamstem dat daar steeds oomblikke van oordrewe emosie en melodrama in die vertelling insluip, maar Paul se beheer oor haar diep menslike karakters en hul beweegredes beïndruk. Paul is immers ’n skrywer van karaktergedrewe romans – in hierdie geval lê baie van die genot juis om speurder te speel en jou te verkneukel in hoe karakters in die groter legkaart inpas.”

Daar is geen einde aan Chanette se vermoë om die een blitsverkoper na die ander te skryf nie. In 2018 word Uit die bloute gepubliseer en hierdie keer begewe Chanette haar op die terrein van vreemde vlieënde voorwerpe, of VVV's.

Kortliks gaan dit oor ’n groep vroue wat in die Akkedisberge woon en glo hulle is uitverkorenes wat deur die moederskip weggevoer gaan word na ’n planeet waar hulle nooit oud gaan word nie. Jojo Richter is weer die sentrale figuur. Sy word deur die nuwe vrou in haar eksman se lewe, Irene, gevra om ondersoek in te stel na die verdwyning van Diana, Irene se vervreemde suster.

Sy ontvang ’n handgeskrewe brief van Diana en gaan spreek die grafoloog Ayla om vas te stel of die brief eg is. Dit sit ’n reeks gebeure aan die gang wat die leser vasgenael hou.

Oor die vonk wat werklikheid aan Uit die bloute gegee het, vertel Chanette aan Phyllis Green (Sarie, 20 Julie 2018) dat sy kan onthou dat sy al as kind gefassineer was deur vlieënde pierings wanneer sy saam met haar ouers verby die Flying Saucer Roadhouse in Pretoria gery het. “Ek het al baie daaroor opgelees en kyk graag na programme op The History channel oor die onderwerp. Ek wou al ’n geruime tyd iets daaroor inweef in ’n storie, maar dit het nooit so gebeur nie.

“Toe sit ek eendag in ’n besonder mismoedige bui oor al die misdaad, aggressie en magsug – nie net hier nie, maar die wêreld oor – en wonder waarom mense nie in vrede kan saamleef nie. Nie elkeen hulle plekkie in die son kan gun nie. En toe wonder ek in ’n lawwe oomblik of die aarde nie dalk ’n strafkolonie is van ’n ander sterrestelsel nie, soos Australië die strafkolonie van Brittanje was. Of al die aggressiewe, magsugtige mense  van daardie sterrestelsel of planeet nie Aarde toe verban is nie. Dat dit is waarom hier soveel haat en nyd is. Dis net daar dat ek geweet het ek gaan iets daaroor skryf, al klink dit hoe verspot. Uit die bloute het in groot mate hieruit voortgespruit.”

Chanette moes baie navorsing doen voordat sy aan Uit die bloute kon begin skryf. ”En nie net oor VVV's nie, maar ook oor grafologie, oor begrippe soos Indigo, Crystal en Rainbow Children. Oor Stockholm-sindroom en sommer ’n menigte ander goed. Gelukkig geniet ek navorsing!”

Jonathan Amid som Chanette en haar skryfwerk in sy resensie van Uit die bloute (Beeld, 11 Junie 2018) as volg op: “Chanette Paul skroom nie om haar karakters deur die grootste beproewings denkbaar te sit nie. Hoewel Paul heerlik speel met opvattings rondom gender en seksualiteit en belang stel in kwessies soos die bemagtiging en bevryding van vroue, weet lesers ook dat die goeie uiteindelik oor die bose sal seëvier. ’n Goeie skeut romanse skyn altyd deur in die immer optimistiese Paul-slot.

“Die vraag met die verskyning van elke nuwe boek (hoe kry sy dit reg?) is in watter mate dit haar getroue lesers tevrede sal stel wanneer sy subtiel aan haar resep verander. Die Offer-tweeluik het nie weggeskram van temas soos volksmoord, neokolonialisme en wit bevoorregting nie. Die broeiende, donker aanslag het sekere lesers op sosiale media en in skrywe aan die skrywer self laat smeek vir ’n terugkeer na die aweregse speurfiguur Jojo Richter.”

En in Uit die bloute staan sy, soos in Paaiboelie, weer vierkantig in die storie. Uit die bloute het nie net ’n klompie grusame moorde nie, maar die eerste twee derdes van die storie se fokuspunt is die onderwerp van VVV's en vir Amid is haar navorsing uitstekend en word dit baie goed by die teks geïnkorporeer. “’n Magdom feite verhelder vir die leser ’n wêreld waaroor baie lank nog bespiegel en gestry sal word.”

Op LitNet sluit Elbie Adendorff haar bespreking van Uit die bloute af met: “Tipies van Paul is haar mooi taalgebruik en landskapsbeskrywing: 'Die lug is poskaartblou. Die see wat van die voet van die kranse af dein tot waar dit die onmeetlike op die horison ontmoet, nog ’n dieper blou. Die son skyn vol somerbeloftes al is dit nog vroeglente. Seemeeue krys in vlug en swarttobies swiep oor die rotse.' Ja, daar is die gewone 'mooi' en 'gelukkige' einde, maar dit pla gelukkig nie, want dit is ’n tipiese kenmerk van Paul se skryfwerk.

“Uit die bloute is ’n boek wat ek nie kon neersit nie. Dit het my tot die einde toe geboei – nie net oor die intriges nie, maar ook oor die interessante karakters, die kinkels en spanningslyn en die interessante inhoud wat maak dat hierdie boek gelees moet word.”

Intussen het Chanette vir Jojo Richter ’n ruskansie gegee en in 2019 word Lira gepubliseer – die eerste van drie in die Vywervrou-reeks. Die ander twee is Mirre en Corali.

Die uitgewers som Lira as volg op: “Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak, maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ’n ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het. Sy beland op Vywerbaai waar sy ’n winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle. Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ’n vierde maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met ’n sterwende vrou en ’n kind wat Lira haat. Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel maar hou ook ’n waarskuwing in: Ter wille van sy kinders sal ’n man sy taaibosspies deur ’n vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet. Maar soos haar vriendin Corali sê: 'Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man vrou of kind nie.'”

Oor Vrouedag spreek Chanette haar as volg uit teenoor Terésa Coetzee in Beeld van 8 Augustus 2014: “Soos vele ander spesiale dae is daar kritiek teen Vrouedag. Dis gekommersialiseer, ’n geldmaakstorie. Feministe het ’n rits besware. Heelwat daarvan is geregverdig, maar net as ons dit toelaat. Vrouedag behoort ’n dag te wees waar ons kyk na wat vroue vermag – danksy en desondanks.

“Dis egter veral ’n dag waarop ons behoort na te dink oor hoeveel vroue op sowel fisieke as emosionele en geestelike vlak misbruik word. Dis ’n dag waarop ons moet sê ons duld dit nie. (...)

“As jy ’n vrou is wat gerespekteer en waardeer word, steek ’n helpende hand uit na iemand na aan jou wat misbruik word – hulle is daar. As jy die ma van ’n seun is, maak seker hy weet hoe om die vroue in sy lewe te respekteer. As jy self ’n misbruikte vrou is, klop aan om hulp. Dis nié oukei om verniel te word nie, nie fisiek of emosioneel nie. Kom ons maak ’n daadwerklike verskil. Vrouedag is ’n goeie plek om te begin.”

Publikasies:

Publikasie

Maalstroom van ekstase

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2003 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036175 (sb)
  • 1415000174 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Perskorprys vir romantiese fiksie 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woestynliefde

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036272 (sb)
  • 1415000778 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leerskool van die liefde

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2001

ISBN

  • 0628036396 (sb)
  • 186904679X (hb)

Uitgewer

  • Halfweghuis: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlerkaf

Publikasiedatum

  • 1998

ISBN

0628036965 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eiland van begeerte

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0628036698 (sb)
  • 1415000867 (hb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Hygroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wip van die droomvanger

Publikasiedatum

  • 1998

ISBN

0628037252 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlerke van goud en ander liefdesverhale

Publikasiedatum

  • 1999

ISBN

0799326550 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bittersoet wals

Publikasiedatum

  • 1999

ISBN

  • 062803749X (sb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rots van liefde

Publikasiedatum

  • 1999
  • 2002 (grootdruk)

ISBN

  • 0628037414 (sb)
  • 1869047605 (hb)

Uitgewer

  • Midrand: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Legende van die liefde

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2003 (grootdruk)

ISBN

  • 0624040402 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 1

Publikasiedatum

  • 2002

ISBN

  • 0624040690 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde in laventel

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2004 (grootdruk)

ISBN

  • 0624041735 (sb)
  • 0415001162 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

  • Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oerdans van die liefde

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2005

ISBN

  • 0624041476 (sb)
  • 1415003289 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Geld wat krom is

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2004

ISBN

  • 0798143029 (sb)
  • 1415001146 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Letsels

Publikasiedatum

  • 1980

ISBN

  • 0624015130 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Handleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goue vreugde: 'n keur uit jare se leesgenot

Publikasiedatum

  • 2003 (grootdruk)

ISBN

  • 0799330736 (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vlerke vir ’n visvrou

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2006 (grootdruk)

ISBN

  • 07993
  • 1415004765 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: LAPA
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Krinkels in die maan

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2005

ISBN

  • 0799332437 (sb)
  • 1415003955 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Fleur
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Perlemoenmaan

Publikasiedatum

  • 2004

ISBN

0624042138 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fynbos vir ’n feeks

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042316 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Troupant

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042529 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toorliefde

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624042820 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Satyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op soek na ’n held

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334766 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tamara

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2011

ISBN

  • 0799334936 (sb)
  • 9780799351453 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Porselein van staal

Publikasiedatum

2005

ISBN

0799334960 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leila word lig

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144408 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Willemien

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799335956 (sb)
  • 9780799351491 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Annabella

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799336033 (sb)
  • 9780799351507 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Deborah

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 0799336114 (sb)
  • 9780799351514 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Isabelle

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 079933619X (sb)
  • 9780799351521 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maryn

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2011

ISBN

  • 079933717X (sb)
  • 9780799351538 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fleur

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2012

ISBN

  • 0799337250 (sb)
  • 9780799351545 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Romanza
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 2

Publikasiedatum

2006

ISBN

9780624044793 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 3

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045922 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Springgety

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799338775 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fortuin

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799342420 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chanette Paul Omnibus 4

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048084 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Branders van liefde (Duette van twee)

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799343311 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onder seespieël

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780799345759 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boheem

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799344646 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Finalis vir ATKV-Veertjie in die spanningsromanafdeling

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meetsnoer

Publikasiedatum

  • 2010
  • 2016

ISBN

  • 9780799347234 (sb)
  • 9780799381535 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dryfhout

Publikasiedatum

  • 2011
  • 2017

ISBN

  • 9780799348828 (sb)
  • 9780799381597 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maanschijnbaai: Jo en Sue

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355420 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Lekkerlit-kompetisie deur lesers as die lekkerste boek van 2012 aangewys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maanschijnbaai: Nan en Jeannie

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799358384 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Labirint

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780795800443 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

 

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Siende blind

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799361346 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

LAPA se Lekkerlit-toekenning 2013

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Raaiselspieël

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799364934 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ewebeeld

Publikasiedatum

  • 2014
  • 2015

ISBN

9780799372144 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • LAPA se Lekkerlit-toekenning 2015
  • Finalis vir ATKV-Woordveertjies vir Liefdesroman 2015

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eendag op ’n Maandag (Samevatting van Krinkels in die maan en Vlerke vir ’n visvrou)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799369939 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Offerlam

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799377118 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels (Sacrificed) 2017, vertaal deur Elsa Silke
  • Nederlands 2016

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Offerande

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799381320 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir liefdesroman 2017

Vertalings

Nederlands 2017

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Paaiboelie

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799385397 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit die bloute

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799388947 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lira (Vywervrou-reeks)

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799394474 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Chanette Paul as vertaler

  • Donald, Robyn: Maagd vir ’n miljoenêr. Parklands: Jacklin, 2004 [ISBN 1415001561 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Graham, Lynne: Sy vrou, die minnares. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415004080 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Milburne, Melanie: Sy onhebbelike vrou. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415003041 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)
  • Oakley, Natasha: Ter wille van ons kinders. Parklands: Jacklin, 2005 [ISBN 1415003602 (hb grootdruk)] (Mills & Boon in Afrikaans)

Artikels deur Chanette Paul beskikbaar op die internet 

Artikels oor Chanette Paul beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2019-09-10
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

The post Chanette Paul (1956–) appeared first on LitNet.

Breyten Breytenbach (1939–)

$
0
0

Foto: Naomi Bruwer

Hierdie LitNet ATKV-album het oorspronklik op 28 April 2015 verskyn en is nou volledig hersien en bygewerk.

Gebore en getoë

Breyten Breytenbach is op 16 September 1939 in Bonnievale in die Wes-Kaap gebore as een van vier kinders van Hans en Kitty Breytenbach: sy broers Jan (wat later die stigter van die Suid-Afrikaanse Spesiale Mag sou word) en Cloete (oorlogskorrespondent en fotograaf) en sy suster, Rachel. Hy is op Bonnievale deur die bekende predikant Kalie Heese gedoop en het sy oupa se naam. Die kinders noem hulle pa Oubaas en hulle ma Ounooi.

Toe Breyten vyf jaar oud was, trek die gesin na Riversdale, waar hulle pa die plaas Kafferkuilsrivier gekoop het. Die kinders kon nie lyf wegsteek nie en moes gereeld op die plaas uithelp. Hulle het ’n halfuur se ry per perdekar van die dorp en die skool, Langenhovenskool, gewoon.

In ’n onderhoud met sy jare lange vriend John Miles in 1993 vertel Breyten dat hy sy breedsprakigheid by sy ma geërf het. Sy was een van 17 kinders en hy het grootgeword met “’n gekekkel, gebabbel, gelag, gejil, geterg en gesing. Sy het haar briewe aan my oorsee bo links begin en een sin dwarsdeur vier, vyf velletjies geskryf. Dis waarskynlik hoekom ek nooit met hoofletters en punte kon werk nie. Dis net ’n voortsetting van die sin.”

In 1948 is die plaas verkoop en verhuis hulle na Wellington, waar Oubaas ’n winkel naby die dorp, by die spoorlyn, gekoop het. Later trek hulle dorp toe – na The Grevilleas, wat hulle van 1947 tot 1970 as ’n losieshuis bedryf het. Breyten matrikuleer in 1957 aan die Hugenoot in Wellington, waar hy ook hoofseun was. Op skool al het Breyten gedig en sy meisies het gereeld gediggies ontvang.

Oor sy estetiese ontwaking as kind vertel Breyten in 2013 aan Murray la Vita (http://breyten.touchlab.co.za): “As ’n mens nou daai ouderdom is, vergelyk jy mos nie jouself met ander mense nie. Jy kom nie agter dat dit miskien iets buitengewoons is nie; ’n buitengewone belangstelling is nie. Ek onthou dat ek van baie kleins af beïndruk was deur afbeeldings op glanspapier. Dit was waarskynlik ou Victoriaanse engeltjies en pilare en dié soort van dinge. Maar vreemd genoeg, dis alles dinge wat – in my geheue in elk geval – deur my oudste broer (Jan) na my gebring is. Ek dink nie dat dit nou nog enigsins, of selfs toe, sy eie belangstelling weerspieël nie. Hy het gehou van boeke. Ek kan nie onthou dat ons werklikwaar veel visuele materiaal in die huis gehad het nie. Natuurlik, ’n ou word groot in ’n skouspelagtige omgewing: in die Klein Karoo langs die Breërivier en dan in Riversdal se distrik; die Boland daarna. 

“Die eerste tekening wat ek kan onthou wat ek sélf gemaak het, moes in 1948 gewees het toe die Nasionale Party die verkiesing gewen het, want ek onthou ek het ’n spotprent geteken van dr Malan wat vir Jannie Smuts uitknikker in ’n bokskryt. En ek onthou, want ons het nog op die werf in my pa se ou motorkar gesit om te luister na die verkiesingsuitslae. Ek was waarskynlik so agt, nege jaar oud. Dit is die eerste keer wat ek kan onthou dat ek werklikwaar iets probeer doen het wat nou nie net ’n nateken was van iets wat ek gesien het nie. 

“En toe daarna het die belangstelling begin optel, waarskynlik hierso van vroeg hoërskooldae in Wellington. Daar was nogal ’n hele paar skilders wat in die omgewing gebly het. 

“Ek het gehoor van Jean Welz in Worcester. Ek onthou ek het met my bromponie soontoe gery, maar toe was ek nou al eerste jaar op universiteit. Ek het gaan kuier en vir hom en al die Welz-broers leer ken. Hulle was almal sulke láng ouens gewees. 

“En toe begin ek baie belang stel in skilderwerk. Die eerste buisies verf wat ek present gekry het, was van ons musiekonderwyser op die dorp, ’n man met die naam van Henry Kuit. Hy het so ’n wilde bos blonde hare gehad en hy was die orrelis in die kerk, maar hy was ’n vreemde persoon in die gemeenskap in die sin dat hy Rooms-Katoliek was en hy het ’n hele huis vol kinders gehad wat gelyk het of hulle almal tegelyk grootgeword het. Afrikaanstalig van huis uit, maar hy was nie van die Boland nie, hy het van ’n ander deel van die land gekom. Maar baie sensitief en ’n fantastiese pianis en ’n wonderlike musiekonderwyser. 

“En ek het by hom musieklesse begin neem en hy het geweet ek stel belang in skilderkuns en ek dink hy het vir my die geld gegee om buisies verf te koop en kwaste en so. Hy het my baie aangemoedig.”

Verdere studie en werk

Na matriek is Breyten na die Universiteit van Kaapstad, waar hy ’n BA-kursus volg en in die Departement Afrikaans en Nederlands studeer onder Boerneef, J du P Scholtz en DJ Opperman. Hy studeer ook kuns aan die Michaelis-kunsskool in die jare 1958–1959, en volgens André Brink was veral die werk en leiding van Lippy Lipschitz vir hom van groot waarde.

Breyten se belangstelling in die digkuns het ook verdiep en hy gaan werk later in ’n boekwinkel. Hy was ook sekretaris van die uitgewer Gerry de Melker. Hy raak bevriend met Uys Krige, Jan Rabie en ander en kuier saam met hulle by Clifton. Sy eerste gedigte verskyn in die studenteblad Groote Schuur in 1959. Hy begin dit sterk oorweeg om na Parys in Frankryk te gaan waar hy reken dit makliker vir ’n skilder sal gaan. Op hierdie stadium sien hy homself glad nie as ’n digter nie.

Oor sy universiteitsjare vertel hy aan La Vita (“Die vingerverhale van Breyten Breytenbach”): “’n Ou moet in gedagte hou die sosiale lewe waarin ek betrokke was, het baie gewentel rondom Jan Rabie en Marjorie Wallace en Erik Laubscher en Claude Bouscharain natuurlik; Richard Reeve, Peter Clarke, Ingrid Jonker, Abraham de Vries tot ’n mate; Marius Schoon.

“Dit was daai oorgangsplek tussen politiek, of betrokkenheid dan ... aktivisme, en sê nou maar die boheemse leefstyl. En dan werklike ... ’n mens het die gevoel gehad hier het jy iets gehad wat werklik vir jou oopgaan. Vir die eerste keer kom ek in aanraking met die vertaalde werk van Paul Éluard, Suid-Amerikaanse digters, die goed waaraan Uys gewerk het, en natuurlik Jan – Jan was ’n absolute mentor, op állerlei maniere.” 

In 1960 vertrek hy uit Tafelbaai as vierdeklaspassasier op ’n Portugese skip. Hy land in Lissabon met twintig pond in sy sak. Hy deurswerf die Middellandse See op ’n boot, reis rond in Portugal, Spanje, Frankryk en Engeland en beland in Noorweë, waar hy ses maande lank Engels by ’n skool gee. In Junie 1961 gaan hy terug na Parys, waar hy met alle mening begin skilder. (Oor al sy omswerwinge gedurende dié tyd vertel Breyten in 1975 meer breedvoerig aan Willem M Roggeman.)

“Vergelyk ’n mens sy werk uit daardie eerste paar jaar met dié daarna, staan jy verstom oor die ontwikkeling. Uit ’n taamlike begin, met ’n nog onvaste tegniek, het hy baie vinnig sy eie styl verwerf – sy eie stem in kleur gekry; vandag is daar haas geen kritikus wat sy sekere, sekure tegniek nie aanprys nie. Miskien het die aanraking met die Ooste, veral die wêreld van die Boeddhisme, baie gou die rigting bepaal waarin hy sou ontwikkel. En die koers is verstewig nadat hy getroud is met die lotus uit Saigon, Yolande,” skryf André Brink in Die Huisgenoot van 29 Desember 1967. Breytenbach se werke is sedertdien uitgestal in Parys, Edinburgh, Minneapolis, Amsterdam, Rome, Berlyn, Brussel, Rotterdam, Le Havre en Groningen.

In sy vroeë jare in Europa het Breyten in Nice om den brode portrette van mense geteken. “Ek het in ’n nagklub gewerk en in ruil vir ’n daaglikse bord kos ... en ek kon die tekeninge verkoop vir tien frank elk. Maar die probleem was dit was ’n baie klein nagklub; ek dink hulle het tien of twaalf gereelde klante gehad. Nouja, toe húlle hul portrette gekoop het binne ’n periode van ’n paar maande, toe was daar nie meer enige inkomste nie. Maar ek het darem nog my bord kos gekry.” 

Hy ontmoet Yolande, wie se regte naam Hoäng Lien Ngo is (dit beteken "Geel Lotus") en in 1962 is hulle in Londen getroud. Sy is ’n Franse burger, hoewel haar ouers van Viëtnam was. Haar pa was Viëtnam se verteenwoordiger by Unesco. Hulle is daarna Parys toe, waar Yolande as sekretaresse by ’n Amerikaanse maatskappy werk. Sy is vlot in Frans, Viëtnamees, Spaans en Engels en behaal ’n BA-graad aan die Sorbonne en studeer verder in die regte en volkekunde. Breyten self studeer in 1963 ook aan die Sorbonne.

Dit het finansieel nie aldag baie goed met die Breytenbachs in Parys gegaan nie. Breyten probeer geld verdien met sy skilderwerk, maar dit gaan nie altyd so maklik nie. Later bemark ’n agent in Amsterdam sy skilderye en hou hy taamlik gereeld uitstallings in België en Nederland. Hy en Yolande het intussen ’n woonstelletjie in Parys gekoop – in ’n baie ou gebou en baie klein.

Intussen raak Breyten al meer betrek by die anti-Suid-Afrikaanse politiek en word hy ’n stoere teenstander van die Suid-Afrikaanse regering se apartheidsbeleid.

In April 1965 land die skrywer Chris Barnard in Parys, en omdat hy vreemd in Parys was, besluit hy om by Breyten te gaan kuier. Breyten verwelkom Chris met ope arms, help hom om verblyf te bekom en tree as gids en raadgewer vir hom op. Chris het vier jaar tevore ’n verhaal van Breyten in ’n studenteblad raakgesien en wou weet of hy nog skryf. Breyten se antwoord was: “Nee wat, ek het opgehou. Ek skilder nou net.” Chris het aanhou neul totdat Breyten iewers in die woonstelletjie ’n dun, groen oefeningboek ontdek het.

Chris Barnard vertel: “In die boekie was kort stukkies prosa, hier en daar ’n gedig, en plek-plek ’n pen-en-ink-tekening.” Omdat Breyten se handskrif nie te duidelik was nie, tik hy die gedigte oor en gee dit vir Chris, wat verras was met die gehalte van die skryfwerk, en soos wat Breyten sy skryfwerk oortik, bespreek Chris dit met hom en gee raad. Teen Junie 1965 was daar reeds ongeveer 60 gedigte en byna net soveel prosawerk in Chris se laai. Teen die einde van Junie sorteer Chris die skryfwerk in twee manuskripte en vra Breyten om dit na Bartho Smit in Johannesburg te pos. Breyten se reaksie: “Maar dis mos ’n uitgewer. Dis mos net skrywers wat boeke publiseer.”

Drie weke later kom die telegram: “Albei manuskripte aanvaar. Geluk. Brief volg.” En teen die einde van November arriveer die pakkie met ’n groot geel boek en ’n klein groenetjie –Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes. In Februarie 1966 hoor Breyten dat die APB-prys vir beide publikasies aan hom toegeken is en is die prys in Parys in die Moulin Vert in Montparnasse aan hom toegeken – en daarmee saam ’n R2 000-kontantprys wat baie nuttig te pas gekom het.

In Die Transvaler van 4 Januarie 1965 skryf Jan Kromhout die volgende oor die twee publikasies: “Die jongste brug tussen Suid-Afrika en Frankryk is nou geslaan deur ’n tot dusver onbekende uitgewekene: Breyten Breytenbach, 25-jarige seun van Bonnievale se wêreld. [...] Wie, liewer hoe, is hierdie jong kunstenaar? [...] In wat hy bereik het, bemerk ons (hopelik) net so ’n talentvolle verskyning as Peter Blum tien jaar gelede, maar ten opsigte van aard en onderwerp lê sy gedigte myns insiens nader aan Pieter Venter se Die blomblaar is requiem en Jan Rabie se Een-en-twintig. [...] Een ding staan vas: ’n Afrikaanse of selfs Suid-Afrikaanse gees adem hierdie bundel nie. Ons is, verstaanbaar, ver verwyder van die osse wat aanstap deur die stowwe, die spruitjie met sy mooi geluidjie of die viooltjies wat in die voorhuis pryk. Die tydgees en tydsverskynsels verplig ons om kennis te neem ook van ander uiterstes. Laat ons Breyten Breytenbach krediet gee vir aanvoorwerk op sý terrein, al moet ons saam met hom aan die “ontrafel” gaan van “die frases wat in jou donkerste wese eggo (bl 19).”

Die uitgewers het aanvanklik vir Breyten en Yolande genooi om die prys in Suid-Afrika in ontvangs te neem, maar omdat Yolande van Viëtnamese afkoms is, weier die Suid-Afrikaanse regering om ’n visum aan haar toe te staan weens, onder andere, die Wet op Gemengde Huwelike van 1949.

Breyten sê dat hierdie insident die begin was van sy politieke bewustheid. “Dit was die begin van my tweeslagtige verhouding met my land ... My hart het veranker gebly aan Suid-Afrika en is dit nog ... Ek was besig om af te sterf en tog ook om elke dag dieper te leef in en na my land toe.”

In 1967 verskyn sy volgende bundel, Die huis van die dowe, en ontvang hy die Reina Prinsen Geerligs-prys, sowel as die CNA-prys daarvoor. Reina Prinsen Geerligs was in die Tweede Wêreldoorlog lid van die versetbeweging in Nederland en is deur die Nazi’s om die lewe gebring. Die prys is ingestel ter aanmoediging van jong digters en skrywers.

In dieselfde jaar vertrek Breyten en Yolande na Lourenço Marques (vandag Maputo) en vandaar na Swaziland, waar Yolande uiteindelik haar skoonouers ontmoet. Daarvandaan is hulle per skip na die Kaap, waar hulle vir twee dae die Skiereiland kon verken voor die terugvaart na Europa.

Intussen groei Breyten se verset teen die Suid-Afrikaanse regering en in April 1970 skryf hy ’n artikel vir Sechaba, die amptelike mondstuk van die ANC. Volgens berigte in die Suid-Afrikaanse pers bepleit hy in hierdie artikel openlik revolusie. Hy sê dat die Afrikaner net deur die revolusionêre vernietiging van sy eie magstruktuur, wat kapitalisties, totalitêr en wreedaardig is, gered kan word.

Breyten gaan voort met sy skryfwerk en die CNA-prys vir letterkunde word ook aan Kouevuur (1969) en Lotus (1970) toegeken. Hy vertaal in 1970 Shakespeare se Titus Andronicus vir Kruik en in ’n onderhoud met die Daily News laat hy hom soos volg uit: “Painting is my job and writing my African mistress.”

Ná hy in 1970 die CNA-prys vir Lotus ontvang het, wil sekere kultuurorganisasies die bundel laat verbied as gevolg van een gedig daarin wat ’n parodie op die Onse Vader is. Hennie Terblanche van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans het laat blyk dat die bundel by die volgende vergadering van die Publikasieraad ingedien sou word. Breyten beskou Lotus op daardie stadium as sy mees ambisieuse bundel tot dusver en ook sy moeilikste. In Rapport van 22 April 1971 sê hy dat Lotus sy “manifes” is en waarskynlik sy laaste digbundel, behalwe “wie weet, oor ’n klompie jare, dalk nog ’n laatlammetjie”.

Dit is asof kontroversie Breyten omgewe en volg waar hy gaan. In 1971, voor die toekenning van die Hertzogprys vir poësie, word in die pers bespiegel dat Breyten dit beslis die meeste verdien. Die prys word egter aan Elisabeth Eybers toegeken – ’n toekenning wat deur sommiges as ’n "veilige toekenning” beskryf word. Met die toekenning van die Hertzogprys vir poësie in 1974 beland Breyten weer in die spervuur. Hierdie keer word Uys Krige bekroon. Voor die tyd sê Breyten self dat sy werk van die vorige drie jaar nie die toekenning regverdig nie.

In 1971 word Breyten aangewys as ere-ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse studente-organisasie Nusas en in Junie 1974 as erepresident.

In 1972 word Skryt: om ’n sinkende skip blou te verf deur Meulenhoff Uitgewers in Nederland gepubliseer en terselfdertyd word ’n uitstalling van sy skilderye deur die galery Espace in Amsterdam gehou. Breyten se aansien in Nederland groei en in 1972 word Lotus bekroon met die Lucy B en CW van der Hoogt-prijs wat deur die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde toegeken word. Breyten word ook tot die 53ste lid van die Maatschappij verkies.

In Desember 1972 slaag Breyten en Yolande uiteindelik daarin om ’n visum vir Yolande te bekom en vertrek hulle na Suid-Afrika. Hulle woon in Februarie 1973 die Sestiger-Somerskool aan die Universiteit van Kaapstad by, waar Breyten vir die eerste keer sedert hy na Parys is, weer in Suid-Afrika optree, voor ’n gehoor van 800 mense.

Hy sê onder andere: “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan ontbind. Net ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind gekom het. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid. Ons wou ons mag regverdig.” (LitNet: Artikel oor Breyten Breytenbach deur Ampie Coetzee).

Schalk Pienaar skryf in Die Burger: “Die man se meesterskap van die woord is iets besonders.”

In April 1975 hou die Verenigde Volke-Organisasie (VVO; nou die VN) ’n spesiale seminaar in Parys oor apartheid waaraan Breyten deelneem en waar hy Suid-Afrika ’n “terroristestaat” noem.

In Junie 1975 word Skryt deur die Publikasieraad verbied – drie jaar na dit verskyn het. Breyten se reaksie hierop: “Die Sensuurraad slaan met hierdie verbod ’n dooie perd, omdat die boek lankal nie meer beskikbaar is nie, nie in Suid-Afrika nie, ook nie in Nederland nie.”

Intussen is Breyten aan die skryf aan ’n Seisoen in die paradys, ’n verslag van die besoek aan Suid-Afrika in 1973. Daantjie Saayman van Buren-Uitgewers besluit egter in Augustus 1975 om dit nie te publiseer nie, aangesien hy seker is dat dit verbied gaan word en hy as eenman-uitgewer nie weer (ná André P Brink se Kennis van die aand) die finansiële risiko kan loop nie. As Buren dit nie uitgee nie, mag geen ander uitgewer dit publiseer nie, wat ’n geweldige verlies vir die letterkunde sou wees. Dit is uiteindelik in 1976 deur Perskor gepubliseer.

In Frankryk word Breyten ’n stigterslid van Okhela, ’n versetgroep wat apartheid in ballingskap beveg. Die naam beteken "om aan die brand te steek". Die groep, wat uit vyf lede bestaan, beskou hulle as die blanke vleuel van die ANC. Hulle aktiwiteite het ten doel om die ANC te help met hulle strewe na ’n omwenteling in Suid-Afrika, indien nodig met geweld.

Op 1 Augustus 1975 land Breyten op die Jan Smuts-lughawe in Johannesburg nadat hy ’n visum in Rome verkry het met ’n vals paspoort onder die naam Christian Galaska. Op 26 Augustus 1975 word dit op die voorblaaie van koerante uitbasuin dat Breyten Breytenbach gearresteer is. Op 19 Augustus word hy in hegtenis geneem omdat hy na bewering in besit was van vervalste dokumente. Die veiligheidspolisie was glo op sy spoor vandat hy in Suid-Afrika aangeland het. Hy word aangehou ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme. Vyf van die mense met wie hy na bewering kontak gehad het, word ook deur die veiligheidspolisie aangehou. Breyten se arres ontlok ’n stortvloed van protes uit die buiteland, veral uit Nederland, Frankryk en Engeland. Na sy arrestasie sê Adam Small by ’n taalsimposium van die Akademie vir Wetenskap en Kuns op Potchefstroom: "My groot vriend, Breytie, was maar altyd ’n bietjie mallerig. Maar God weet, die man skryf wonderlike Afrikaans.”

Op 10 November 1975 verskyn Breyten voor ’n stampvol hof ingevolge die Wet op Terrorisme. Die verhoor word tot 21 November uitgestel. Met die aanvang van die verhoor op 21 November pleit Breyten skuldig op die hoofaanklag met sekere wysigings op die klagstaat. Na ’n week word hy op 11 aanklagte skuldig bevind en op 27 November vonnis regter PM Cillié hom tot nege jaar gevangenisstraf nadat die staat by monde van die prokureur-generaal, Percy Yutar, saam met Breyten se advokaat, PJ vR Henning, ’n maksimumvonnis van vyf jaar gevra het. In Desember 1975 word verlof tot appèl geweier. In Maart 1976 word nog ’n aansoek om verlof tot appèl geweier. Tydens sy verhoor ontvang Breyten ’n kunsprys ter waarde van R1 000 van die Stadsraad van Vitry in Frankryk.

Met die uitspraak sê Breyten onder andere aan regter PM Cillié: “Elkeen van ons is ook verantwoordelik vir al die ander mense. Ons dra almal by tot die gemeenskap, ten goede of ten kwade. Wat my betref, dit is nou vir my baie helder, my bydrae kan nie op die gebied van politiek wees nie en ek sal my ook nooit weer daarin begeef en vergiftig nie. ’n Mens sê altyd dat berou en spyt te laat kom. Ek is jammer oor die onbesonne dom dinge wat ek gedoen het en wat my tot hier gebring het, en ek vra om verskoning daarvoor. Maar ek voel ek weet ek het nog baie gedigte in my vingers en skilderye in my oog. Ek hoop eendag, wanneer dit my weer gegun mag word om in die lewe uit te gaan, dat ek dan tog nog deur my skrywe en my kuns my deel by kan dra tot die toekoms van ons land en ons mense. Ek sal dit as ’n voorreg beskou.”

Tydens sy gevangenskap word Breyten toegelaat om voort te gaan met sy skryfwerk. Alles wat hy skryf, moet aan die tronkowerhede oorhandig word. Hy word egter nie toegelaat om te skilder nie.

Oor ’n reeks gedigte wat Breyten in aanhouding geskryf het, sê FIJ van Rensburg: “Dit is nie ’n gespeel om ellende te vergeet nie, dis geen gefluit by ’n kerkhof verby nie. In die engte van sy sel wil die digter ruimte verwerf, wil hy ’n stuk ruimte verower wat hy nie tevore gehad het nie. Waarmee hy hom in die bundel besig hou, is om tot ’n ruimer menslikheid te kom.” Hy sê ook dat dit van die merkwaardigste werke, nie net van Breyten nie, maar in Afrikaans is. 

Voetskrif word in 1976 deur Perskor gepubliseer en in 1977 word dit met die Perskorprys bekroon. Op die omslag is ’n afdruk van ’n skildery wat Breyten gemaak het terwyl hy verhoorafwagtend was. In Desember 1976 word van Breyten se poësie en prosa in Frans vertaal deur Georges-Marie Lory en uitgegee onder die titel Feu Froid (Kouevuur). Kouevuur word ook deur middel van die Franse vertaling in Engels, Arabies en Pools vertaal.

In Mei 1977 word Breyten weer op twee aanklagte van ontsnapping ingevolge die Wet op Terrorisme aangekla. Hy word egter net skuldig bevind daaraan dat hy tronkregulasies oortree het en tot R50 of drie maande gevangenisstraf gevonnis. Die staat kon nie bewys dat hy vanuit sy sel aan enige terroristebedrywighede deelgeneem het nie. Die aanklagte spruit uit sy gedrag en gesprekke met ’n bewaarder in die Sentrale Gevangenis in Pretoria. Hy erken dat sy planne om te ontsnap net lugkastele was en dat hy nooit verwag het dat dit verwerklik sou word nie. Selfs nadat hy onskuldig bevind is, het daar geluide in sekere Afrikaanse kultuurkringe opgegaan dat hulle beplan om die Onderwysdepartement te vra om Breyten se gedigte wat vir skole voorgeskryf is, te verbied.

In Junie 1977 ontvang Breyten die Prix des Septs, wat deur sewe internasionale uitgewerye ingestel is. Hy is die eerste ontvanger van hierdie prys. Dit word toegeken veral vir sy literêre werk, maar kan ook beskou word as ’n teken van solidariteit met sy politieke stryd. Die uitgewers is Feltrinelli (Milaan), Bourgeois (Parys), Wagenbach (Wes-Berlyn), John Calder (Londen), Anagrama (Barcelona), Don Quixote (Lissabon) en Van Gennep (Amsterdam). Van Breyten se gedigte wat die jare van 1964 tot 1977 oorspan, word in 1978 in Engels deur Denis Hirson vertaal onder die titel In Africa even the flies are happy en deur John Calder uitgegee. Die bundel sou ook in Portugees, Spaans, Frans, Duits, Italiaans en Nederlands vertaal word. Die vertaling is gedoen op grond van bogenoemde toekenning wat hy ontvang het.

Op 4 April 1978 is Breyten se moeder onverwags op ’n buurvrou se begrafnis in Hermanus aan ’n hartaanval oorlede. Breyten kon nie toestemming kry om sy ma se begrafnis by te woon nie.

In 1979 verskyn nog ’n bundel met vertalings van Breyten se gedigte getitel And death as white as words. Dit word egter deur die Suid-Afrikaanse Sensuurraad verbied.

Pogings om Breyten vroeër uit die gevangenis te kry, duur onverpoosd voort. In April 1979 word ’n versoek van die Internasionale PEN-vereniging van die hand gewys.

In dieselfde jaar kry Breyten se vader ’n beroerte en word in Grahamstad in ’n hospitaal verpleeg.

Eerbewyse vir Breyten bly nie agterweë nie. In 1980 word hy saam met die Tsjeggiese skrywer Josef Skvorecky ’n finalis vir die internasionale Neustadt Literêre Prys. Hierdie tweejaarlikse prys word deur die Universiteit van Oklahoma geborg en Breyten verloor met een punt. Die eregeld van 1981 se Poetry International in Rotterdam word aan Breyten toegeken. Dit is ’n prys wat in 1981 vir die derde keer toegeken word aan ’n digter wat onder meer deur sy werk in ’n ernstige situasie beland het. Die bedrag van R3 000 wat deur die uitgewers Elsevier beskikbaar gestel is, sou gebruik word vir juridiese bystand aan Breyten en vir verligting van sy gevangenskap. Yolande word toegelaat om Breyten gereeld twee maal per jaar te besoek terwyl hy in die tronk is.

By geleentheid van Breyten se verjaardag op 16 September 1980 publiseer Taurus-Uitgewers die bundel Die miernes swel op die fox-terrier kry ’n weekend en ander byna vergete Katastrofes en fragmente uit ’n ou manuskrip van Breyten Breytenbach. Die meeste prosatekste is afkomstig uit die oorspronklike manuskrip van Katastrofes (1964), terwyl ander deel uitmaak van ’n Seisoen in die paradys en ander wat in tydskrifte soos SestigerDe Vlaamse Gids en Contrast verskyn het. As gevolg van sy gevangenskap kon Breyten nie die bundel hersien soos sy wens was nie. Ander prosastukke word opgeneem in De boom achter de maan wat in 1974 deur Van Gennep in Amsterdam uitgegee word.

Na maande se bespiegeling in die pers word Breyten op 2 Desember 1982 onverwags uit die tronk ontslaan – twee jaar voor die verstryking van sy vonnis. Daar word algemeen aangeneem dat dit as gevolg van internasionale bemiddeling plaasgevind het. Volgens berigte het Breyten se skryfwerk terwyl hy in die tronk was, geen tekens van enige revolusionêre inhoud getoon nie, wat glo ook ’n belangrike rol in sy vrylating gespeel het.

Na sy vrylating sê Breyten dat die sewe jaar "geweldig neerdrukkend" was, hoewel geen fisieke geweld teen hom gepleeg is nie en hy nie mishandel is nie. Volgens hom is dit feitlik onmoontlik vir ’n blanke Suid-Afrikaner om deur swart “vryheidsvegters” as bondgenote in die stryd aanvaar te word. Hy voel dat hy nie verder ’n aktiewe rol in die politiek sou speel nie en dat hy vanuit Parys geen invloed op die politiek in Suid-Afrika sal hê nie. Maar hy sal nog altyd sy dig- en skryfwerk gebruik om apartheid te veroordeel. Op 5 Desember 1982 kom hy in Parys aan en in 1983 neem hy Franse burgerskap aan.

In die net meer as sewe jaar in die tronk het Breyten meer as 400 tronkgedigte in Afrikaans geskryf wat in die bundel Die ongedanste dans (1975–1983) saamgevat is. Oor wat hom in dié tyd van inkerkering tot soveel kreatiwiteit geïnspireer het, het hy aan Willemien Brümmer vertel (Die Burger, 20 Maart 2010): “Voëltjies buitekant ... die wind daar bo ... stof wat inkom ... ’n stukkie gekleurde papier ... klanke – allerlei dinge. Dis wonderlik – dan kom ’n mens werklik agter hoe ryk is die wêreld.

“Skrywe was ’n soort van verlenging van ’n mens se sintuie. Jy het dit nodig om te kan verstaan waar jy is en wie jy is. As ek in daardie tyd ’n vry man was, sou ek waarskynlik nie so produktief gewees het nie.” (Hy haal die filosoof Jacques Derrida voor in sy jongste boek aan: “Our secret is in survival.”)

In ’n onderhoud met die Nederlandse koerant NRC Handelsblad in 1983 sê Breyten dat Afrikaans geen toekoms het nie en dat dit ’n taal vir grafstene geword het. Hy beweer onder meer dat Afrikaans ’n vernedering is vir swart en bruin mense en dat hulle nie langer in die taal belangstel nie.

Mense soos Jan Rabie, Richard van der Ross, Jakes Gerwel en Abraham de Vries stem egter nie met hom saam nie.

Breyten dink nie dat sy inhegtenisneming en sy tronkstraf heeltemal tevergeefs was nie. “Die spreekwoord sê watter sin het die lewe as jy nie ’n 'fool' van jouself kan maak nie. Dis ’n bevrydende besef wat langsamerhand tot my begin deurdring: jy het reg op jou foute."

Die ongedanste dans (1975–1983) is net die voorloper van nog vier digbundels en twee prosabundels wat by Taurus gepubliseer is. Die nuwe bundel, Eklips, is die derde in ’n reeks van vyf wat onder die gesamentlike titel Die ongedanste dans verskyn. Die eerste werk heet Buffalo Bill, die tweede Lewendood, die vierde Yk en die vyfde Die kus.

Na Breyten se vrylating laat Merwe Scholtz hom soos volg oor Breyten se werk uit: “[D]ie werk is ryk, vol verskeidenheid, byvoorbeeld prosa en poësie, en ek sou sê op die peil wat ’n mens van die digter verwag.”

In Januarie 1983 is Breyten in Den Haag om ’n spesiale literêre prys van die Jan Camper-stigting te ontvang. By die oorhandiging van die prys sê die burgemeester van Den Haag, Frans Scholls, dat Breyten die prys ontvang om sy vryheid te vier en sy digterskap te stimuleer, veral waar literatuur en weerstand op ’n oortuigende wyse ’n eenheid vorm. Breyten is ook die onderwerp van films soos die Duitse Prison mailbag X4 South Africa, a letter to Breyten Breytenbach wat in 1983 op Duitse televisie vertoon is en deur Jobst Grapow gemaak is.

En toe uiteindelik, in 1984, word die Hertzogprys vir poësie aan Breyten toegeken vir sy bundel Yk. Hy deel die prys met Henriette Grové – net soos die CNA-prys van 1983. Hy wys egter die prys van die hand, “nie omdat ek vasgegroei het aan die beeld wat deur sommige aangekleef word, dié van opstoker of provokateur of outsider nie. Aldus nie om vriende te behaag nie. Ook nie om kopie te verskaf aan joernaliste op vroetel na sensasie of erger – die Engelstaliges wat enige sogenaamde 'Afrikaner-afwykende' op opportunistiese wyse steun met die hoop om die Afrikaners as groep by te kom nie. Selfs nie (en ek dink ek is taamlik eerlik as ek so sê) vanweë ou letsels, ’n verwronge persoonlike geskiedenis, kleingeestigheid of omdat dit te laat is nie. Maar om die eenvoudige rede dat die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns nog immer die bolwerk bly van die Afrikaner-establishment. [...] Indien ek die bekroning sou aanvaar, sou ek nie op my klein manier kon meehelp aan daadwerklike verandering nie, maar ’n illusie van soepelheid help verleen aan strukture en ’n stelsel wat eksklusief bly.”

Taurus publiseer in 1984 The true confessions of an albino terrorist. Dit is die eerste werk wat Breyten ná sy vrylating skryf. In sy resensie van die werk in Rapport skryf André Brink: “Dit is duidelik dat Breyten onwennig voel in Engels. Taalspel, wat vir hom in Afrikaans so spontaan gebeur, is hier meermale met ’n swaar hand aangepak. [...] Dit bly ’n nodige boek. Vir ons tyd en ons situasie ’n onontbeerlike boek. Maar openbaar dit dalk ook tekens van die bitter skade wat die tronk wél – aan die skeppende gees self – aangerig het?”

Breyten se aansien in die buiteland neem nie af nie. In 1984 ontvang hy ’n toekenning van die beweging vir sosiale menseregte en in 1985 die Pierpaolo Pasolini-prys, wat na die wêreldbekende Italiaanse digter en filmregisseur vernoem is. Breyten ontvang die prys vir die werk wat hy onder moeilike omstandighede gedoen het.

In April 1985 word hy genooi as gas van die Universiteit van Kalifornië, waar hy lesings lewer en uit sy boeke voorlees. Hy woon ook in 1985 die 48ste PEN-konferensie in New York by.

Yk wen in 1986 die eerste Rapport-prys – die derde bekroning vir dié bundel. Breyten en Yolande kom Suid-Afrika toe sodat hy die prys persoonlik in ontvangs kan neem. Dit is sy eerste besoek aan Suid-Afrika sedert hy in Desember 1982 uit die tronk vrygelaat is. Met die ontvangs van die prys sê hy dat ’n gedeelte van die prysgeld gebruik sal word “vir die saak van politieke gevangenes. Ek het teruggekom omdat ek my onherroeplik verbond het tot Afrika en omdat ek my vereenselwig met die stryd om die bevryding van Suid-Afrikaners.”

In 1987 speel Breyten, saam met Idasa, ‘n rol in die reël van die gesprekke tussen leiers van die ANC en 50 Suid-Afrikaners in Dakar in Senegal. Geld om die onkoste vir die missie te dek is deur onafhanklike stigtings in Europa en die VSA ingesamel. Frederik Van Zyl Slabbert lei die Suid-Afrikaanse missie en Danielle Mitterand, die Franse president se vrou, help Breyten om visums vir die groep te bekom, asook met die reisreëlings.

In dieselfde jaar doen Breyten en Yolande aansoek om ’n visum om Breyten se siek pa te besoek, maar dit word geweier weens Breyten se houding en gedrag teenoor Suid-Afrika, asook ander oorwegings.

In 1988 ken die Universiteit van Wes-Kaapland ’n eredoktorsgraad aan Breyten toe vir wat hy vir die Afrikaanse taal gedoen het.

In Julie 1989 woon Breyten die skrywersberaad by die Victoria-waterval by en lewer die slotreferaat oor ’n Suid-Afrikaanse letterkunde – in Engels. Sy Memories of snow and dust, wat in 1990 die Engelse CNA-prys sou wen, se Suid-Afrikaanse uitgawe is daar bekendgestel.

In Julie 1989 word ’n visum vir vier dae aan Breyten en Yolande toegestaan vir ’n besoek aan Breyten se pa, wat later, in Desember 1989, in die ouderdom van 85 jaar oorlede is. Visums word vir drie dae aan Breyten en Yolande toegestaan om die roudiens in Grahamstad by te woon, asook die seremonie in Hermanus, waar sy pa se as by sy ma se graf gestrooi is.

In Mei 1990 word Breyten as direkteur van Taurus-uitgewers aangestel, met sy hoofdoel om ondersoek in te stel na die moontlikheid om Afrika-letterkunde aan die Suid-Afrikaanse publiek bekend te stel.

In Augustus 1990 is Breyten en Yolande as gaste van SAAK (die Stellenbosse Aktuele Aangeleentheidskring) op besoek in Suid-Afrika, en voor ’n groot gehoor op Stellenbosch, tydens die slottoespraak by ’n driedaagse konferensie oor Die rol van die Afrikaner in die bou van ’n nuwe Suid-Afrika, kondig hy sy onttrekking aan die openbare lewe aan. Die titel van sy toespraak was "Fragmente van ’n groeiende gewaarwees". In Oktober 1990 lewer hy een van die hoofreferate by die Afrikaanse Skrywersgilde se beraad op Langebaan.

Die koerant New Nation bied, in samewerking met die Congress of South African Writers (COSAW), in Desember 1991 ’n landwye skrywerskonferensie in vyf streke aan. Breyten lewer die hooftoespraak, "Om by heerskappy verby te skryf". In sy toespraak sê hy dat uitgewers tien persent van die boeke wat hulle uitgee, gratis aan minder gegoedes beskikbaar behoort te stel. Van sy ander uitlatings is dat skrywers moet saamstaan; dat groot uitgewers en die media nie versiende genoeg is nie en dat hulle probeer behou wat hulle het, pleks van om ’n heeltemal nuwe rigting in te slaan en oplossings vir ’n nuwe situasie te help soek.

Hoewel Breyten se kunswerke veral in Europa baie bekend is en hy lank reeds uitstallings daar hou, word sy eerste kunsuitstalling eers in 1993 in Suid-Afrika in Kaapstad aangebied. Die titel is Painting the eye.

Hy ontvang ook in 1993 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van (KwaZulu-) Natal in Durban. Die motivering hiervoor is dat sy werk diep gewortel is in die sosiale en kulturele politiek van die tyd en dat sy statuur in en bydrae tot hierdie land nooit oorbeklemtoon kan word nie.

Gedurende Julie 1993 tree hy by die Wits Winterforum op en neem hy saam met Marthinus Versfeld, Frederik Van Zyl Slabbert en Neville Alexander aan die openingsbespreking deel. Daar sê hy: “Julle moenie skaam wees om te veg vir Afrikaans nie. Net omdat die Fascis in ons midde in die water gepis het, beteken dit nie ons mag nie meer die woord water in die mond neem nie. [...] Taal is die magiese vesel van minder- of meerderhede: taal is die spieël waarin jou asem ’n herkenbare gesig kry.” (Beeld, 17 Julie 1993)

Tydens ’n toespraak in November 1993 by Washington-universiteit in St Louis, Missouri in die VSA sê Breyten: “Sommige Suid-Afrikaanse skrywers glo hulle ruik die welriekende geure van die nuwe republiek van vrede, maar in werklikheid ruik hulle die geparfumeerde boude van politici op grawe na mag. Ons kan onsself net red deur die demokratiese instellings van ’n beskaafde gemeenskap te versterk deur die politici ferm te beperk tot hul rol as dienaars van die gemeenskap en om só hul natuurlike neiging teen te werk om op die arbeid van die samelewing te teer.” (Die Burger, 16 November 1993)

By die bekendstelling van Return to paradise (1993) in Washington maak hy die stelling dat hy nog steeds daaraan dink om die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl op te blaas, omdat dit ’n “daad van openbare higiëne” sou wees. Return to Paradise is die laaste deel van die trilogie waarvan Seisoen in die paradys (1976) en The true confessions of an albino terrorist (1984) onderskeidelik die eerste en tweede dele is.

Die Internasionale Parlement van Skrywers verkies in November 1993 ’n Wêreldraad en ’n president. Sestig skrywers kom in Strasburg byeen en die Wêreldraad, bestaande uit Adonis, Pierre Bourdieu, Breyten Breytenbach, Jacques Derrida, Carlos Fuentes, Edouard Glissant en Toni Morrison, word aangewys. Die president vir twee jaar is Salman Rushdie. Hierdie parlement “exists to fight for oppressed writers and against all those who persecute them and their work, and to renew continually the declaration of independence without which writing is impossible; and not only writing, but dreaming; and not only dreaming, but thought; and not only thought, but liberty itself”.

In 1994 word Breyten genooi om die amptelike openingstoespraak by die 25ste Poetry International in Rotterdam, waarna 72 skrywers van oor die wêreld genooi is, te lewer. Die Nederlandse koningin Beatrix woon die opening by. Vir Breyten was die grootste eer egter toe een van sy versreëls op ’n aantal rommelstortwaens aangebring is – ROTEB, die munisipale rommeldiens, was een van die borge van die fees en was betrokke by die ”poëzie rijdt op straat”-program waarvan die tema was: “Jy leef asof jy onsterflik is.”

Intussen rol verdere internasionale en plaaslike eerbewyse in. In 1995 ontvang Breyten die Jacobus van Looy-prys van Aad Nuis, die Nederlandse onderminister van kultuur. Jacobus van Looy (1855–1930) was ’n Haarlemse skrywer en skilder en die prys word toegeken aan kunstenaars wat óók die skryf- en skilderkuns beoefen. Die oorhandiging van die prys val saam met die opening van ’n uitstalling van Breyten se werk in ’n deel van die beroemde Frans Halsmuseum in Haarlem.

In 1994 word Return to paradise bekroon met die Sunday Times/Alan Paton-toekenning vir niefiksie, en in 1996 ontvang Breytenbach die Helgaard Steyn-prys vir nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde. Hierdie prys word elke jaar om die beurt vir musiek, beeldhouwerk, skilderkuns en letterkunde toegeken.

In 1995 ontvang Breyten die 12de Malaparte-prys, wat jaarliks deur die Vriende van Capri toegeken word ter herdenking van die Italiaanse joernalis en skrywer en ter erkenning van die politieke betrokkenheid en die literêre prestasies van die ontvanger. Dit is ook bedoel om die werk van buitelandse skrywers aan die Italiaanse leserspubliek bekend te stel. Nadine Gordimer was in 1985 die ontvanger van hierdie prys.

In 1996, tydens die 27ste Internasionale Poësiefees in Rotterdam, is Breyten die onderwerp van die jaarlikse vertaalprojek wat deel is van Poetry International. In 1998 word hy deur die motorvervaardiger Volkswagen AG in Hannover, Duitsland, as ’n wêreldburger vereer.

In 1996 ontlok Breyten ’n nuwe debat oor Afrikaans, Afrikaners en saamstaan toe hy ’n taalstaat bepleit waarbinne Afrikaanstaliges se potensiaal ten volle ontwikkel kan word, asook ’n kultuur en praktyk van “skeppende verset”. In ’n lang artikel in Die Burger van 5 Oktober 1996 kritiseer hy die ANC se konsep van “nasiebou” en ’n “reënboognasie”. “Om te oorlewe en skeppend deel te wees van ’n groter geheel, sal Afrikaners met veel soepelheid moet kan saamwerk en baklei vir ’n eie verbeeldingsruimte. Vir die Afrikaner is taal skering en inslag van sy gemeenskaplikheid en hy moet veg vir die instandhouding daarvan.”

Breyten en ’n Seisoen in die paradys is in 1997 ook die onderwerp van etlike films – onder andere een in Engels wat deur die Sweed Richard Dindo geregisseer is en ook een in Frans. Hennie Serfontein doen die regie van ’n video, Breyten the artist, wat in 1997 op die rolprentprogram van die Grahamstadse kunstefees vertoon word. Die video is ook op SABC3 vertoon.

In 1997 verskyn Oorblyfsels: ’n roudig, ’n huldigingsbundel aan Daantjie Saayman, uitgewer van Buren-uitgewers, wat oorlede is. Saam met Papierblom, wat onder die skrywersnaam Jan Afrika verskyn, word die Hertzogprys in 1999 aan Breyten toegeken. Hierdie keer aanvaar hy dit: “Dis vyftien jaar later en ander omstandighede. Ou geskille het minder belangrik geword.” Tydens die oorhandiging van die prys sê Rena Pretorius dat Oorblyfsels ’n waardevolle bydrae tot Afrikaans se yl besit van elegiese gedigte lewer. Papierblom bied ’n kragtige demonstrasie van Breyten se unieke en waardevolle bydrae tot die Afrikaanse poësie.

Op die Demokratiese Alliansie (DA) se taalberaad in 1998 tree Breyten op saam met die leier van die DA, Tony Leon, en Neville Alexander, destydse voorsitter van Pansat. Breyten sê: “Suid-Afrikaners moet die reg op andersheid uitleef, insluitende hul reg om hul moedertaal op alle gebiede van die samelewing te gebruik, en weerstand te bied teen die geweldige druk om te konformeer.”

Tydens die KKNK van 1999 pleit hy vir die vestiging van ’n vrye Afrikaanse universiteit, want daar sal uiteindelik geen ruimte vir die ontwikkeling of vir die reeds verworwe ruimtes van Afrikaans aan die huidige universiteite wees nie. In dieselfde jaar praat hy by die ATKV se herfsskryfskool op Potchefstroom oor die Afrikaner as Afrikaan: “Enige aantasting of belemmering van die volle gebruik van jou moedertaal is ’n skending van daardie mensereg wat verseker dat jy ’n volwaardige en nuttige burger mag wees, selfs en veral in ’n meertalige gemeenskap.”

Breyten se veelbesproke toneelstuk Boklied se première vind in 1998 tydens die KKNK plaas en ontvang die De Kat-Herrieprys. Dit palm ook agt ENB Vita-Streekteatertoekennings vir 1997/1998 in – vir beste produksie, beste akteur (Dawid Minnaar), beste byspeler (Duma Mnembe), beste byspeelster (Antoinette Kellerman), beste nuweling (Emile Serfontein) en beste regisseur en stel-en-kostuumontwerp (albei Marthinus Basson) en beligting (Laddy Czerepowicz).

In 2000 word sy eerste toneelwerk in Engels, The life and times of Johnny Cockroach, tydens die Grahamstadse kunstefees onder die regie van Marthinus Basson opgevoer. Dit is ’n vervolg op Boklied. Breyten se toneelwerk bly omstrede en in 2001, tydens die opvoering van Die toneelstuk op die KKNK, loop die mense uit. Dit veroorsaak dat Breyten na die KKNK sê dat hy niks meer met die Afrikaner te doen wil hê of in die openbaar in Suid-Afrika gaan optree nie. Dit spruit waarskynlik uit ’n meningspeiling wat deur Die Burger gehou is en waar 80 persent van die respondente gemeen het dat Afrikaners hulle van Breyten moet distansieer. In ’n brief in Engels aan Die Burger skryf hy hy “[is] in geen omstandighede lid van u volk, of sou dit ooit wou wees nie” (Volksblad, 20 April 2001). Marthinus Basson, wat ook die regisseur van Johnny Cockroach en Die toneelstuk is, word by die KKNK van 2001 met die Baanbrekersprys vereer vir die grensverskuiwende werk as regisseur en ontwerper wat hy onder meer met BokliedEk, Anna van Wyk en Die Toneelstuk gedoen het.

By die bekendstelling van Papierblom in 1998 by die KKNK sê Breyten dat hy haastig is om dood te gaan. As iemand anders dit gesê het, sou dit dalk aan morbiditeit gegrens het, maar, skryf Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 6 April 1998), ’n mens kan sien “dat hy vrede gemaak het met die onvermydelike”. Papierblom is opgedra aan sy dogter (hy noem haar D) en aan sy vrou en daarin is vir die eerste keer twee gedigte oor sy tienjarige dogter.
Hy het Papierblom onder sy skuilnaam Jan Afrika geskryf en daar is heelwat verse oor die dood daarin. Die titel kan ook verwys na iets wat verbygaan. Breyten verduidelik aan Nieuwoudt: “Papierblom is ’n goeie Afrikaanse woord vir bougainvillea. Met die bundel blom woorde op papier. En papier is iets wat tydelik is. Ons is ook vasgevang in ’n tydsgees waar ons besig is om ou illusies af te sterwe en waar dinge besig is om vinnig uitmekaar te val.”

Oor die skuilnaam Jan Afrika verduidelik hy: “Jan Afrika is ’n bergie, ’n swerwer. Iemand wat ontslae wil raak van die meulsteen van digterwees. Ek het die naam geskep sodat enige ander digter wat van die meulsteen ontslae wil raak, vry kan voel om die naam te gebruik. Enigiemand kan dit gebruik. Ek het Jan gekies want daar is niks so Afrikaans soos dié naam nie. En Afrika omdat daar niks so Afrika is as dié woord nie. Die Afrikaner kan nie pleit vir diversiteit as hy nie diversiteit in eie geledere kan aanvaar nie. Hy moet homself met al sy skubbe kan aanvaar. 'n Deel van my hart is Bram Fischer en die ander deel is Kobie Coetsee.”

Breyten se kunsuitstalling Woordwerk open in 1999. Dit is ’n geleentheid waar digter en skilder by mekaar uitkom in ’n eksistensiële gesprek met mekaar – ’n interaksie tussen beeld en woord. Breyten beaam dit teenoor Cobus van Bosch (Die Burger, 27 Februarie 1999): “Ek werk nou al vir ’n ruk met die vermenging van kuns en beeld, soos met my baniere – ek verkies eintlik die term 'lappe’. Dit is ’n geval van waar die gedig ’n skildery word en andersom.”

Vanaf Januarie 2000 is Breyten betrokke as gasprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland se Fakulteit Geesteswetenskappe, asook by die Gorée-instituut in Dakar, Senegal en by die Universiteit van New York, waar hy klasgee in hulle kreatiewe skryfprogram. Op Gorée-eiland begin hy ’n multikulturele en multidissiplinêre projek saam met kunstenaars uit Denemarke, Senegal en Suid-Afrika. Hy is die uitvoerende direkteur van die Gorée-instituut en is in 2005 betrokke in ’n bitter stryd met Senegal oor die behoud van hierdie instituut. Vanaf 2004 is hy deur die vredesakademie van die Gorée-instituut betrokke by die vredesproses in Guinee-Bissau. Voor die verkiesing het die instituut begin met ’n proses van burgerlike opleiding en om politieke partye te leer "hoe om die spel te speel”. Buitelanders word gewerf om die opleiding te doen en as monitors op te tree. In 2007 open hy die ArtTerial-kongres op Gorée met die toespraak "Om Afrika te verbeel".

Breyten was ook in 2001 ’n bekende gesig op kykNET met die aanbieding van Ja-nee (poësie) waartydens hy met plaaslike akademici, digters en skrywers oor die digkuns gesels het.

In 2002 kondig hy aan dat hy voortaan sy gedigte aan net ’n klein en geslote groep mense gaan versprei. Ampie Coetzee, sy jare lange vriend, se reaksie was: “Laat die donders wat kritiseer, in hulle moer vlieg; en diegene wat gedigte verniet wil hê, ook. Die ding kom al baie ver en ek dink die mees ordentlike ding sal wees om die man uit te los. Vergeet van Breyten. Hy is in die hiernamaals, hy’s by Vader Zen” (Beeld, 18 September 2002).

In ’n artikel in Beeld van 21 September 2002 skryf Willie Burger oor Breyten: “Buiten Breytenbach is daar weinig ander digters wie se poësie dit regkry om deur die inkantering, die ritme, ’n nuwe groef in ’n mens se brein te sny wat ander denke moontlik maak. Die metafore in sy poësie is telkens só onthutsend, só verbysterend dat lesers telkens daardeur, soos deur die liefde, nie onveranderd gelaat kan word nie. Vir alles wat Breyten reeds geskryf het, vir die ander denkgroewe wat hy oopgemaak het en steeds oopmaak, is ek dankbaar. Dis ’n bydrae waarsonder die Afrikaanse letterkunde en Afrikaans baie armer sou wees. Sy werk en lewe sê ‘ons is nie almal so nie’. Poësie, veral Breyten se poësie, bedreig al van sy eerste bundel af die siekes. Kyk, hy is skadeloos, wees hom genadig.”

Daar kan nou ook op CD na Breyten se verse geluister word. CD-samestellings van sy getoonsette verse is aan die orde van die dag. Dit begin met Om te Breyten, waarop kunstenaars hulle gunstelinggedigte van Breyten toonset en uitvoer. In 2001 is dit opgevolg met Mondmusiek, waarop Breyten ’n al groter rol speel. Hy lees van sy gedigte voor met musiek van plaaslike musikante in die agtergrond. In 2002 volg Lady One, waarop hy Engelse gedigte voorlees. In 2002 word Lappesait by die KKNK opgevoer met Pedro Kruger en Eugenie Swanepoel wat van Breyten se getoonsette poësie sing. Laurinda Hofmeyr bring in 2008 Reis na die suide uit, waarop sy ook van Breyten se gedigte sing wat sy self getoonset het.

In 2005 wys Breyten nog ’n toekenning van die hand. Die nasionale minister van kuns en kultuur, Pallo Jordan, ken aan Breyten die toekenning van die Departement van Kuns en Kultuur vir sy lewenswerk toe, maar hy wys dit van die hand. Hy waardeer die welwillendheid van die paneel wat hom as kandidaat voorgestel het, maar sien nie sy weg oop om dit te aanvaar nie.

Breyten se Die windvanger, wat in 2008 verskyn, verower die Hertzogprys, die Universiteit van Johannesburg-prys vir Skeppende Skryfwerk, en die WA Hofmeyr-prys. In Maart is hy die gasspreker by ’n oop gesprek by die Universiteit van Wes-Kaapland wat deur die Departement Afrikaans gereël is. Hy aanvaar die Hertzogprys uit erkenning vir die goeie werk wat gedoen is en die werk wat nog gedoen moet word. Helize van Vuuren (Beeld, 1 Mei 2007) sê dat daar in Die windvanger ’n “psigiese tweespalt is tussen die afgelegde, afgeswore, gehate vaderland en die binding daarmee, die taalmedium. Die dood, die troebels van ouer word, die mens se onontkombare verganklikheid is die groot konstante tema.” Louise Viljoen (Die Burger, 16 April 2007) beskryf dit as ’n “lieflike, elegiese besinning oor die betekenis en waarde van digterskap”.

Volgens die UJ se nuusverklaring is Die windvanger “’n besondere bundel waarin die bekroonde digter, bekend vir sy verbysterende metafore, opnuut wys hoedat daar met taal getoor kan word. Sentraal in die bundel is die mens se ervaring van die verbygaan van dinge, van ons onvermoë om tyd te begryp. Breytenbach beoefen ‘gedigdink’ (’n woord wat hy self gebruik om na sy ‘woordtorinkies’ – gedigte – te verwys). Gedigdink is om taal en die kreatiewe moontlikhede wat metafore bied in te span om meer te ontdek van hoe ’n mens jou eie bestaan en ervaring van jouself en die wêreld kan bedink.”

In Februarie 2007 is Breyten se ouerhuis in Wellington, The Grevilleas, as die Breytenbach Sentrum geopen. Dit is gerestoureer en beoog om ’n veilige hawe te wees vir talentvolle kunssinniges wat nie andersins die geleentheid het om hulle kuns uit te leef nie – van plaasvroue tot jong skilders. Dit wil ook die middelpunt van die kultuurlewe van die streek wees. Een van die kunstenaars wie se werk in die sentrum uitgestal is, is Breyten se vrou Yolande, wie se kralekuns waarmee sy gevoelige en sensitiewe portretstudies maak.

In 2009, ter viering van Breyten se 70ste verjaardag, het die dorpie Hengelo in die noordooste van Nederland hulde aan hom gebring. Vir hierdie geleentheid is 14 nuwe Afrikaanse sonnette van Breyten op stadsmure en in stads­tuine aangebring. Ook is twee publikasies vir die geleentheid gedruk: Wandeling, ’n tabletgrootte-koerant, 10 000 eksemplare, met die Afrikaanse, handgeskrewe sonnette naas die Nederlandse vertaling. Dan is sy kunswerk ook in drie galerye uitgestal en al dié werk is in hardeband byeengebring in Breyten Breytenbach – Raakruimtes.

Die 14 sonnette wat spesiaal vir Hengelo geskryf is, is op yslike plakkate gedruk en op plekke op geboue in die stad wat duidelik te sien was, geplak. Die gedigte is ook op “sokkels”, pilare soos klein podiums, gelos. Dit was deel van ’n poësieroete wat gestap kon word. HS ten Berge, ’n Nederlandse digter, vertaler en wenner van die PC Hooft-prys, het ’n lesing gelewer oor Breyten se geskrewe werk. Hy het Breyten as “een uitzonderlijke verschijning” beskryf.

Maar, skryf Rachelle Greeff in Rapport (6 September 2009), dit was die poësiekonsert waaroor die Nederlanders in vervoering was. Saam met Breytenbach op die verhoog was Schalk Joubert, baskitaarspeler, die Nederlandse klawerbordspeler Jeroen van Vliet, en Charl-Pierre Naudé, Krijn-Peter Hesselink en Gert Vlok Nel. Die Nederlanders het Breyten se Engelse verse geniet, maar dit was toe hy sy Afrikaanse verse met sy bry-r van Bonnievale se wêreld af voorgelees het, dat die Nederlandse gehoor gaande geraak het.

Oor sy digwerk skryf Breyten self soos volg in Vermaak ea se Versreise (2004): “My eerste gedigte het ek seker teen die ouderdom van 15 geskryf. Dit was die ewige jare van my eerste kalwerliefdes. My hart was gebreek en sou nooit weer geheel word nie en die maan het soos ’n sekel in die lukwartboom gebot! Daarna het gevolg die ontginning van die gedig as ding, ’n objek [uit] eie reg wat langs vreemde paaie kan wandel; iets wat deur die krag van die woord, dws ook deur assosiasies van klank en ritme en deur die verwysings van metafore, ’n outonome werklikheid kan daarstel. Nog later het gekom die gedig as middel en oproep tot opstand. [...] [G]edigte skryf het nie net die begeerte om te skep (of te omskep) vir my verwoord nie, maar ook die behoefte om die wêreld om en in my sigbaar te maak en sodoende min of meer (en tydelik) te verstaan.”

In Sarie van 6 Februarie 2002 skryf Zandra Bezuidenhout oor sy digbundel Ysterkoei-blues: “Van die teerste jeugherinneringe aan sy plattelandse jeug en sy ouers, die haat-liefde-verhouding met sy vaderland, en Zen-verse, tot sy ervaringe in Frankryk en elders vind hier neerslag. [...] Maar dit bly die oorspronklike aanslag en die ongelooflik poëtiese verwerking van sy stof wat hierdie digter uniek maak. Sy werk bly ’n vonds – of ’n heerlike herontdekking.”

In 2013 het Breyten ‘n aandeel in die organisasie van die Dansende Digtersfees wat vir Mei op die Spier-landgoed buite Stellenbosch beplan word. Dit is ’n gesamentlike projek tussen Spier en die Pirogue-kollektief, ’n vrywillige genootskap individue wat deur Breyten byeengeroep is om aan kultureel-kreatiewe projekte vorm te gee. Die genootskap is ’n verlengstuk van die Gorée-instituut in Senegal. Saam met Breyten, Antjie Krog, Petra Müller en Marlene van Niekerk tree daar nog sewe digters van lande soos China, Amerika, Suid-Korea, Duitsland, Nederland, Slowenië en Israel op. Die fees is die eerste vergestalting van ’n vennootskap met die bedoeling om vorentoe soortgelyke ruimtes van skepping en verbeelding te bevorder en te fasiliteer, hetsy literêr, maatskaplik of polities van aard.

’n Uitstalling van Breyten se kunswerke was deel van die Suidoosterfees van 2013. Die uitgestalde werke op papier, doek en as objekte is ingedeel in tien vingerverhale en elke “verhaal” het uit ’n aantal werke bestaan en behalwe die vyfde “verhaal” het hulle meer as een uitdrukkingsvorm oorvleuel.

Breyten glo in die Oosterse manier van kyk na betekenis. “Wat ons die metafisika van die oppervlak sou noem. Met ander woorde: ek is heeltemal nie geraak deur die idee dat jy iets kry wat dieper lê as waarna jy kyk nie. Dit is nogal een van die redes hoekom ek ábsoluut nie geneig is om ... [M]ense soek na betekenis; veral as hulle sien daar is iets wat narratief werk wat tot hulle spreek, maar hulle kry net nie die draad nie; hulle weet nie presies waarna dit verwys nie en hulle wil die storie hê,” verduidelik hy aan Murray la Vita (“Die vingerverhale van Breyten”).

“Uit die aard van die saak is dit byna vanselfsprekend dat die storie dan iets sal wees wat, ’n mens wil amper sê op ’n Van Wyk Louw-manier die ‘dieper draaiende donker’ onderbewussyn, die Jungiaanse of die Freudiaanse onderbewuste toelig. 

“Dis miskien trouens een van die redes hoekom ek so ’n hele ry broertjies dood het aan die sielkunde – omdat hy so by die hare bygesleep word. Ek dink dit bestaan in alle lewensfilosofieë en alle kulturele ervarings. ’n Mens tel dit baie op in die Oosterse manier van dink en doen en byvoorbeeld die manier waarop Afrika-gelowe hulle gode en hulle bose geeste besweer – ritualisties of deur die sjamanisme. Dit is alles maar net daarop gemik dat daar die onbeteuelbare en miskien dieper strominge is, maar dit beteken nog nie dat ’n mens dit kan reglementeer en daarvan ’n soort van leesboek maak nie.”

Breyten se pen het nie na sy 70ste verjaardag opgedroog nie en sedert 2008 verskyn oorblyfsel / voice over: op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj / the nomadic conversation with Mahmoud Darwish (2009); Notes from the Middle World: essays (2009); die beginsel van stof: (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge) (2011); en Katalekte: (artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan) (2012).

Vir oorblyfsel / voice over, waarin hy in gesprek tree met die geprese Persiese digter Magmoed Darwiesj, ontvang Breyten in 2010 die Mahmoed Darwiesj-stigting se inhuldigingsprys, asook die Max Jacob-prys, wat een van Frankryk se belangrikste literêre pryse is en vernoem is na Max Jacob, ’n Frans-Joodse skrywer en kunstenaar wat in 1944 in ’n Nazi-konsentrasiekamp gesterf het. Dit word sedert 1950 elke jaar aan twee digters toegeken. Breyten is vereer vir Outre Voix, die Franse vertaling van oorblyfsel.

oorblyfsel is ook met die Protea-prys vir die beste digbundel van 2010 bekroon. Breyten se bedankingstoespraak is by monde van sy uitgewer, Alida Potgieter, gelewer en daarin bepleit hy dat sy prysgeld in ’n fonds vir die aanmoediging van jonger digters gestort word.

Tydens die bekendstelling van die beginsel van stof het Breyten onder andere gesê dat ’n mens dinge opnoem omdat jy jouself wil herinner aan dit wat jy wil ­onthou of dit wat jy dink jy ken ... en jy word intens bewus van die onafhanklikheid van die medium van die taal self.

Oor sy ouers se mening oor sy kuns sê hy aan Murray la Vita (“Die vingerverhale van Breyten Breytenbach”): “My ouers het ’n baie gesónde omgang met kuns gehad. Ek het onder Lippy Lipschitz gewerk by Michaelis. Hy was ’n besonderse persoon gewees. Ek is nie van aanleg ’n beeldhouer nie, maar ek onthou ek het so ’n paar beelde gemaak en my ma het dit eenvoudig gebruik om die deur oop te hou of as deel van die blompotte.

“En net so met die skilderye. Ek onthou my ma het ... ek dink nog dit is een van die mees wonderlike estetiese uitsprake wat ’n mens kan maak: ‘Maar jy het mos nou genóég skilderye gemaak. Jy kan ’n hele kamer vol hang. Wat wil jy dan nog meer doen? Kan jy dan nou nie ernstig raak en begin karre regmaak of wat ook al nie?’

“Sy’t nou nie so gesê nie, maar ... Nee, hulle het ’n baie normale omgang gehad. Van die werklike ouer werke begin nou hier en daar opduik; van daardie periode trouens. Die enigste waarvan ek bewus is wat oorgebly het van die studentejare en wat waarskynlik by my ma agtergebly het, want ek het ’n soort van ’n werkkamer daar gehad in Grevilleas, en toe maar onder die familie verdwyn het. ’n Nefie het byvoorbeeld onlangs geskryf en gevra of hy een van die goed mag verkoop. 

“Dit is ’n selfportret van ’n ou wat vreeslik dramaties met so ’n soort van ’n rolnek donker trui aan staan en druiwe eet. ’n Mens kan amper sién waar dit vandaan kom – die soort van romantiese, Europese invloed. 

“Nee, ek dink hulle was bly om te sien dat ... maar hulle moes in hulle harte van harte gedink het dié man is totáál van sy kóp af. Hoe gaan hy ooit ’n lewe kan maak? 

“Maar ek het nooit gevoel daar is enige afkeer of kritiek nie; hoegenaamd nie, nie polities nie, nie literêr nie, dit was ’n soort van ’n onvoorwaardelike en byna ’n organiese solidariteit. My pa wat byvoorbeeld bedank uit die kerk net omdat die dominee ’n groot preek gaan afsteek het teen die Sestigers – dié soort van ding. Hy het dit nie eers gehoor nie; hy was aan die slaap in die ouderlingebank, maar toe die ander ouderlinge nou agterna met hom kom simpatiseer, toe bedank hy nét daar.”

Dit is vir Breyten ’n netelige saak om te besluit in watter taal hy gaan skryf, sê hy in Die Burger van 20 Maart 2010.

“Ek dink in Intieme Vreemde het ek geskryf ek het agtergekom ek droom soms byna soomloos in verskillende tale. Dis vreemd, maar as jy dikwels meer as een taal gebruik, val sommige beperkings in jou onderbewuste weg.

“Ek het met die wakker word van daardie frases neergeskryf, maar agtergekom dat daar drie of vier tale is wat soomloos by mekaar inskakel sonder enige grammatiese afbakening. Dis nogal moeite om die goed uitmekaar te hou!

“My werktaal, ook in Senegal, en huistaal is meesal Frans. Ek gee ’n deel van die jaar in Engels klas in skeppende skryfwerk by die New York-universiteit. Natuurlik skryf ek nog altyd in Afrikaans, gebruik Spaans groot dele van die jaar, en as dit nodig is, ’n bietjie Hollands en Duits. Maar my skryfwerk is in Afrikaans, Engels of Frans.

Intieme Vreemde en Notes from the Middle World is vreemde werke. Hulle is in Frans begin en toe in Hollands en Engels geskryf. Daar’s ’n omgang met filosofiese begrippe in Frankryk wat alledaags is. As jy soos ek self met daardie begrippe omgaan, is dit byna vanselfsprekend dat Frans homself aan die hand doen.

“Soms slaan ek nie genoeg ag daarop dat dit nie so maklik is om van daai begrippe af oor te beweeg na Afrikaans nie, waar ons meer ingestel is op die struktuur van die wêreld waarin ons beweeg. Ons is meer bewus van die natuur, klanke en geure – baie meer aards, met die humor wat daarmee saamgaan.

“Ek dink nie ek sou ooit die eerste skryf van ’n gedig in enige ander taal as Afrikaans kan doen nie. Jy gaan na ’n onderbewuste area. Daardie aanvoeling en wisselwerking met ritme, klank, kleur en tekstuur gebeur net in ’n mens se moedertaal.”

Oor Katalekte, wat in 2012 verskyn het, gesels Breyten met Willem de Vries (Die Burger, 8 November 2012) en sê hy dat dit aan die begin nie bedoel was as ’n derde bundel ná Die windvanger en Die beginsel van stof nie, maar “ek is bly die vormgewing (formaat, ­papier, lettertipe, invou-omslae en natuurlik ook die ­skilderye op die kafte – alles Alida Potgieter en haar span se toedoen, waarvoor ek dankbaar is en haar geluk mee wil wens) skep die indruk van ’n drieluik, met deurlopendheid. Dit bied ruimte vir veront­skuldiging. Of dit vir die ­inhoud ook geld, is vir die 25 lesers om te besluit. Katalekte beteken ‘versameling fragmente van ou dig- of prosastukke’.”

Breyten se volgende bundel is vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte  wat in 2014 by Human & Rousseau verskyn het. Dit is opgedra aan Breyten se uitgewer, Alida Potgieter van Human & Rousseau. Breyten vertel aan Willem de Vries in Die Burger van 28 Mei 2014 dat hy aan Alida eer wou bewys “omdat sy ’n verhouding tussen skrywer en uitgewer vergestalt wat nie meer bestaan nie, wat berus het op simpatieke, maar streng deeglikheid van haar kant en ’n aanvoeling vir die teks vanaf die eerste worp tot verby die finale produk, ’n stil manier om selfs die mees opgeblase knol of knorrigste genie se ballon te prik en dan die flardes te hanteer.” Vir hom is Alida ’n besonderse mens en uitgewer en hy dink nie daar is ander soos sy nie.

Breyten vertel aan De Vries dat aangesien Alida nou gaan aftree, dit ook die einde van sy verbintenis met Human & Rousseau beteken. “Ek het haar leer ken toe Kerneels Breytenbach nog in die uitgewerstoel gesit het. Alida was verantwoordelik vir die redigering en vormgewing, maar omdat sy so nederig is, het ek eers mettertyd besef dat die ferm hand aan die stuur eintlik hare is.”

Willem de Vries beskryf die laaste deel van die titel – die “eenbeendanser” en “werkruimte” – as ’n “pen se dans op papier, met die ink as spore van die choreografie”. En toe wou hy by Breyten weet of hy ’n verskil tref tussen kuber- en papierwerk

Waarop Breyten antwoord dat die begin van sy skryfwerk altyd eerste op papier is, die meeste kere in sakboekies, en “dan is dit ’n geneuk om te ontsyfer, verstaan, die kop van die stert te skei, vorm te gee, want daar is weinig chronologie en min sin, voordat dit op die skerm kom. En selfs daarna moet ek dit uitdruk om ’n gevoel vir die saamhang (indien enige), die geheel en die volgorde te kry.”

Daniel Hugo beskou Breyten as ’n “oorrompelende digter wat die leser meesleur met klank en beeld – in so ’n mate dat die ‘argument’ of ‘inhoud’ van ’n vers dikwels verduister raak. Maar dit is ’n gloeiende en boeiende duisternis.”

Breyten het aan Ingrid Woudstra op SLiPnet gesê dat hy nie intertekste gebruik nie, behalwe in die enkele geval met die nadig van ’n Auden September-vers. “Digwerk is nie vir my ’n intellektuele bedryf nie al is sommige woorde ook blerrie slim. Niks word weggesteek nie en jy het geen sleutel nodig nie. Maar aan die ander kant weet mens al hoe meer dat jy in gesprek is met soveel stemme van vroeër en miskien ook met enkeles van hierna. Hoe ouer jy word hoe meer besef jy dat niks enig en anders is nie – so daar is baie kopknikke na bekende of prikkelende gedagtes van die ander bome in die bos. Wat op papier kom, is dikwels ook die neerslag van leeswerk waarmee jy besig is. Iemand wat vir my ’n belangrike verwysing (alhoewel byna onbruikbaar) is, is Dogen. Hy word algemeen gesien as die stigter van die Soto Zen tradisie.”

Joan Hambidge skryf op haar blog: “Die lang titel vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte aktiveer ook die digter se werksaamheid as Pirogue-organiseerder vir die dansende digtersfees waar hy verskillende digters ’n ruimte gee, sowel nasionaal as internasionaal, en die komplekse aard van die digkuns transponeer van 'n eie taal na Engels en Frans, onder andere. Om te dig is om te ‘vertaal’, te transponeer, oor te dra, weer te gee: hetsy ’n indruk, ’n emosie, opstand, ideologie, wat ook al, na ’n konkrete gedig. Breytenbach was nog altyd meester van die konkrete, surrealistiese beeld. Vanaf die debuut in 1964 word die leser telkens getref deur die ongelooflike beelde wat lank na die lees 'n mens bybly. Of dit nou die maan wat soos 'n klip lyk of die besonderse vermoë om stilte te verwoord, bly gedigte trefseker en in die kol.”

In Die Burger van 8 Mei 2014 vra Willem de Vries aan Breyten of ’n mens kan praat van ’n instink van die verbeelding.

Breyten sê hy dink so. “Met die voorwaarde dat daardie verbeelding partykeer miskien onverstaanbaar is of ontoeganklik is, maar dis nie te sê nie. Dis een van die diepste waarhede wat nog ooit in Afrikaans gesê is: Dis nie te sê nie.

“Dit [die gedigte] is nie duister met die opset om dinge te verdoesel nie. Dit kan duister wees in die sin dat ’n mens kom tot op die rand van wat jy beskou, of die moontlike sêbare, en dan probeer jy dit maar net weergee. Dit het baie te doen met grense en dít waarteen die stilte spoel, en dít wat ­oorspoel in stilte of oorspoel in woorde miskien. Meer en meer, dink ek, voel ek aangetrokke tot die fragmentariese, tot die wegdoen van die pretensie dat ’n mens iets volledig eens en vir altyd kan sê.”

En daarna? wou De Vries weet. “Ek sou aanneem die voël gaan nie ophou sing omdat daar nie meer ’n gebied is wat hy ­probeer beset of wen of waarna hy iemand probeer lok nie – hy gaan nog altyd sing.”

In Desember 2014 het die Universiteit van Gent (UGent) in België ’n eredoktorsgraad aan Breyten Breytenbach toegeken. UGent is een van die grootste universiteite in Vlaandere, die Nederlandssprekende provinsie van België. Hulle ken eredoktorsgrade toe aan individue wat belangrike bydraes tot die gemeenskap lewer en as erkenning vir hulle uitmuntende prestasies.

UGent en Suid-Afrika het ook ’n geskiedenis van samewerking, en die universiteit het noue bande met universiteite in Suid-Afrika. Dit was dus luidens die universiteit se mediaverklaring ’n logiese stap om ’n eredoktorsgraad aan Breytenbach toe te ken.

Die verklaring het voorts gelui: "Both Breyten Breytenbach's paintings and his literary work thematize the vagabond existence, the outsider and the vagabond, oppression, death and decay, but also the morning light, movement, social criticism, pleading, imagination, Central World identity, consciousness and conscience.

"The literary work of Breytenbach has been translated into many languages and has been awarded several prizes and awards."

Breyten se volgende publikasie verskyn in 2015 onder die titel Parool/Parole en is ’n versameling van 19 van sy toesprake wat deur Francis Galloway saamgestel is.

In Vrouekeur (6 Januarie 2016) noem Willie Burger dat hierdie toesprake, of "ope briewe", tussen 1968 en 2015 gelewer is. Baie van die lesings is oorsee gelewer en is dus in Engels, hoewel die helfte in Afrikaans is.

"Uit die aard van toesprake wat in spesifieke omstandighede gelewer is (soos sy toespraak tydens sy eerste verhoor), kan ’n mens verwag dat daar ’n bepaalde tydsgebondenheid aan sommige van die toesprake bly kleef en dat hulle daarom nou al agterhaal sou wees. Wat ’n mens egter verstom, is hoedat elkeen van hierdie tekste oor hul spesifieke omstandighede van destyds uitstyg en telkens op verstommende manier insigte verwoord wat nou relevant is.

"Sommige van hierdie bydraes gaan spesifiek oor die letterkunde of die kunste, terwyl ander meer op sosiaal-politieke vraagstukke gefokus is. Watter tema Breytenbach egter ook aanroer, of dit oor Afrikaans, oor Afrika se toekoms, oor die aard en rol van kuns, oor die korrupsie van regerings of oor die gevolge van globalisering is, al sy uitlatings word telkens deur ’n baie spesifieke manier van denke oor die wêreld onderlê. Die wins van ’n bundel uitgesoekte toesprake soos hierdie is juis dat dit die leser die kans bied om te sien wat Breytenbach se denke deurgaans onderlê. Reg van die begin af staan die rol van die verbeelding, van kreatiwiteit, sentraal in sy denke. Aan die een kant is die klem op kreatiwiteit ’n hoogs individuele saak. Elke mens het telkens nodig om op ’n eie, unieke manier op sigself en die wêreld te reageer."

Op LitNet skryf Johann Rossouw in sy resensie: "Sommige romans stel die leser in staat om die verlede te herbeleef en anders te verstaan. Hierdie ander verstaan van die verlede deur die roman is nog merkwaardiger as die roman betrekking het op geskiedkundige gebeure wat die leser self beleef het.

"Breyten Breytenbach se versamelde toesprake, Parool/Parole, het hierdie soort effek op my gehad. Dit is enersyds ’n hoogs ontstellende leeservaring, omdat die leser teen wil en dank ’n aantal verskriklike geskiedkundige gebeure oor die afgelope anderhalfeeu waarvan Breytenbach getuie en dikwels akteur was, meemaak. Om byvoorbeeld te herbeleef hoe Afrikaans se grootste digter en die Afrikaners se morele gewete in ’n toespraak voor die hooggeregshof in November 1975 op die ouderdom van 36 jaar met ’n mengsel van bykans tasbare durf én vrees sy verset aan sowel die regter as die hof van die openbare mening verduidelik, is soos om gedwing te word om oor en oor ’n marteltoneel mee te maak. Parool/Parole is andersyds ’n hoogs besielende leeservaring, omdat dit getuig van die moontlikheid om altyd weer te verbeel en uitweë uit die donker, die onnoselheid en die geweld van ons tyd te soek.

"Dit word dikwels van Breytenbach gesê dat hy ’n hoogs ingewikkelde kunstenaar is, maar soos hierdie bundel bewys, is Breytenbach se werk eweneens klokhelder, danksy die konsekwentheid waarmee hy ’n aantal deurlopende temas oor die afgelope anderhalfeeu ontwikkel het. (...)

By die lees van die bundel het dit duidelik geword dat minstens twee sleutels nuttig is om die bundel te verstaan. Die eerste sleutel is bykans vanselfsprekend: omdat Breytenbach in hierdie tekste telkens op aktuele sake reageer, is dit telkens nodig om die konteks waarbinne hy die betrokke teks geskryf het, in gedagte te hou. Hiervoor is die nawoord wat die samesteller van die bundel, Francis Galloway, vanaf bl 193 verskaf, baie nuttig. Die leser wat haar oog telkens op die datum van ’n gegewe teks se ontstaan hou, sal makliker die deurlopende temas en hul ontwikkeling kan raaksien. Dus sal ek telkens hier onder ook verwys na die datums van aanhalings uit die tekste.

"Die tweede verstaansleutel is die kwessie van Breytenbach se reg om hom dwarsdeur sy volwasse lewe oor Suid-Afrika uit te spreek terwyl hy al sedert ongeveer sy 20ste jaar nie voltyds in die land woon nie – uitgesluit die sewe jaar wat hy tussen 1975 en 1982 in die destydse Pretoria Sentraal-gevangenis (nou Kgosi Mampuru-gevangenis) in Pretoria deurgebring het. Omdat Breytenbach telkens sy gehoor vreesloos uitdaag en tot morele verantwoording roep, is die beskuldiging deur sy opponente in Suid-Afrika dikwels teen hom ingebring dat hy weens sy meestal buitelandse verblyf die reg verbeur het om hom oor die land uit te spreek, onder meer omdat hy na bewering nie regtig meer weet wat in die land aangaan nie. By die lees van hierdie bundel is ek egter getref hoe Breytenbach ondanks sy buitelandse verblyf keer op keer sy vinger presies op die pols van die land had en steeds het. Myns insiens is dit danksy die feit dat hy ’n intense liefde vir die land het, asook ’n intense bemoeienis met die Afrikaners as sy mense, met vratte en al. Vanweë sy diepe verbintenis oor afstande heen het hy lewenslank meer betrokke by die land en by sy eie mense gebly as wat die geval is met baie mense wat voltyds in die land woon. Dit bewys dat die reg om jou oor die land en jou mense uit te spreek, nie in die eerste plek afhang van waar jy woon nie, maar van jou verbintenis en betrokkenheid. (...)

"As Sokrates ons leer dat die onbetragte lewe nie die moeite werd is om te leef nie, leer Breyten Breytenbach ons met die poëtiese droomtoesprake gebundel in Parool/Parole dat die grondig-deurleefde oortuiging die hoogste vorm van durf is – selfs, of miskien juis, ómdat ons feilbare dromers is."

Breyten se volgende digbundel verskyn in 2016 onder die titel die singende hand: versamelde gedigte 1984–2014. Willem de Vries (Die Burger, 4 April 2016) het met Breyten oor die versameling gesels.

De Vries wou weet watter indrukke die bundel by Breyten as nomadiese laat. Breyten se antwoord: "Uitgedryf in die oopte oor die wit bladsy en nêrens om weg te kruip nie. Daar kan nou nie meer getorring word aan die goed wat daar staan nie. ’n Bietjie ontsteld ook om te sien hoe vreeslik baie spore, dof of minder dof nagelaat is op die water vir ’n arme leser om te ontsyfer. Verlig, omdat dit nou afgehandel is – en gelate omdat alle siklusse so voltooi is. En dankbaar teenoor Nèlleke de Jager wat voorgestel het dat hierdie derde helfte van die versamelde poësie gebundel word, en veral teenoor Alida Potgieter wat met deeglike en simpatieke kundigheid gesorg het dat die kanne en kruike nie te veel stort aan boord van hierdie vlugtelingboot oorlaai met woorde nie."

Oor die titel verduidelik Breyten aan De Vries: "Henri Matisse, die Franse skilder, het by geleentheid verduidelik dat hy aanhou skilder tot die hand begin sing, sodat die hand mag sing. Die 'bewegende ekke', sodat die hand vry mag omgaan met die woorde."

Vir Louise Viljoen (Netwerk24, 2 Mei 2016) vertel hierdie bundel die geskiedenis van Breytenbach se digterlike lewe van 1984 tot 2014.

"’n Mens kan dit op verskillende maniere en om verskillende redes lees: Om ’n beeld van sy digterlike ontwikkeling te kry, om te begryp hoe hy dink oor die maak van poësie of om jou doodgewoon oor te gee aan die byna uitspattige weelde van klanke, metafore, digvorme, verwysings en idees. Tesame met die vorige twee versamelbundels, Ysterkoei-blues (1964 tot 1975) en Die ongedanste dans (1976 tot 1982), gee die singende hand nou vir die Afrikaanse leser in drie boeke toegang tot Breytenbach se formidabele oeuvre. Sy poësie is nog ’n manier – en miskien die mees klinkende – waarop hy die saak vir Afrikaans stel."

Op Versindaba vat Desmond Painter die singende hand as volg saam: "Die singende hand: Versamelde gedigte 1984–2014 protesteer van die intrapslag teen die parameters wat dit definieer: die eerste 78 bladsye se gedigte dateer van vóór 1984, maar is eers in 1990 in die bundel Soos die so gepubliseer. Hierdie derde deel, wat volg op Ysterkoei- blues: Versamelde gedigte 1964–1983 en Die ongedanste dans: Gevangenisgedigte 1975–1983, is die mees omvangryke van die drie bande. Breytenbach se produktiwiteit die afgelope dekade word onderstreep deur die feit dat meer as die helfte van die ongeveer 750 bladsye beslaan word deur gedigte wat die afgelope 10 jaar, sedert 2007, gepubliseer is. Dit is die bundels Die windvanger (2007), Oorblyfsel / Voice over (2009), Die beginsel van stof (2011) Katalekte (2012), Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (2014), en Oorblyfsel (2014). Hierdie onlangse bundels, en tot ’n mate ook Papierblom (1998), is nog geredelik beskikbaar in die handel, en dit is dus die vroegste bundels wat hier opgeneem is, Soos die so (1990) en verál Nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde (1993), wat dit veral die moeite werd maak om Die singende hand te koop.

"Die laasgenoemde bundel, Nege landskappe, is destyds deur die klein uitgewer Hond gepubliseer, met die gevolg dat dit ten spyte van goeie resensies relatief obskuur gebly het; ’n soort ondergrondse klassiek. Dit is myns insiens een van Breytenbach se mees oorrompelende bundels, en een van die werklik gróót digbundels in Afrikaans. Die enkelbundel behoort eintlik al lankal as heruitgawe beskikbaar te gewees het … maar nou ja, dit is nie hoe dinge in ’n klein literêre sisteem soos ons s’n werk nie; ten minste is hierdie belangrike werk nou weer vir ’n jonger generasie lesers beskikbaar. Die deurleefdheid en verweefdheid van die tematiese materiaal, die ambisie van die komposisie: dit is Breyten Breytenbach op sy heel beste. Nie eers Jan Blom of Jan Afrika sou hom dit kon nadoen nie.

"Elkeen van hierdie boeke sou op sy eie genoeg gewees het om Breyten Breytenbach as een van Afrikaans se grootste digter te vestig. Sáám is die drie bande een van die groot literêre monumente in Afrikaans: ’n halfeeu se poësie wat nie slegs die taal tot die uiterste ontgin het nie, maar etlike generasies lesers (en digters) se bewussyn en verbeelding beide esteties en polities verdiep en geïnternasionaliseer het soos geen ander Suid-Afrikaanse skrywer nie. Daar is gewoon niks in Afrikaans, in Suid-Afrika, dalk selfs in Afrika, wat naastenby met hierdie voortstuwende woordwerk vergelyk kan word nie.

 "Ten slotte, dus, ’n gedig waarin die digter verkeerd is. Of skaamteloos skimp vir komplimente soos in die paragraaf hierbo …

Die goëltoertjie

Dis nie waar dat ʼn ou man
nog poësie kan skryf nie –
iets is daarmee heen –
miskien die soepelheid om
soos ʼn vars versreël te buig
en jou eie skoenveters vas te kan maak
of die voortvarendheid
om kaalvuis ʼn verwronge metafoor
uit die hoed te pluk –
nog duiselig van die buk
sê jy dan die maan is ʼn gedagte
en die gedig al sedert jare
ʼn dooi oogverblinde haas.

En as daar iemand was wat gemeen het dat Breyten Breytenbach se muse hom in sy later jare gaan verlaat, kon hulle nie méér verkeerd gewees het nie. In sy 77ste jaar in 2016 verskyn daar ’n nuwe bundel uit sy pen, getiteld die na-dood: (die singende hand se oggendboek-herinneringe).

Willie Burger (Vrouekeur, 17 Junie 2016) raak buite weste opgewonde oor die na-dood. Toe hy die boek oopgeslaan het, het ’n "ongekende opwinding" oor hom gekom toe hy die opdrag lees: Behier my hart, behiér – en laat wat buite is bedaar. "Die tien woorde maak soveel gewaarwordinge wakker dat ek duisel en vir my hart wil sê om te bedaar. Want herinner ons onsself nie dikwels daaraan om die hart te laat bedaar nie? Maar Breytenbach skryf dat die hart moet 'behier'.

"Hierdie soort nuutskepping is kenmerkend van Breytenbach se hele oeuvre. (...) Die gedig is soos ’n dans, en deur die ritme, die beweging van die woorde, begin die leser om iets te ervaar wat tot dusver nie bestaan het nie. Die taal is net 'geleende' vere waarmee die digter speel en dan raak iets tussen die dooie woorde tóg lewendig en vlieg. (...)

"’n Sentrale tema in die bundel (soos in Breytenbach se oeuvre) is die dans. Om gedigte te lees, is soos om te dans, die woorde het hul eie kadans, hul ritme, en wanneer ’n mens dit lees en hoor, is dit ’n gebeurtenis. Soos ’n dans ’n gebeurtenis is wat ophou wanneer die musiek stil word, kom die ervaring van die gedig ook ten einde wanneer ’n mens klaar gelees het."

Tom Gouws sluit sy baie positiewe resensie op Versindaba as volg af: "'Hoekom het Breytenbach nog nie die Nobelprys vir Letterkunde gewen nie?' vra Rustum Kozain in ’n resensie (in Die Burger, 7 Maart 2011). Weliswaar het die Letterkundekommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2012 vir Breyten Breytenbach voorgedra as kandidaat vir die Nobelprys vir letterkunde, maar helaas sonder sukses. In 'naak in Benarés' (uit Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte) skryf Breytenbach met ’n grynslag en selfspot oor die moontlike ontvangs eendag van die Nobelprys vir letterkunde. Hy relativeer in die gedig die belangrikheid van literêre pryse (hier te lande het hy hom ook al daaroor uitgespreek).

"’n Mens sou veel kon sê oor die baie goeie redes waarom hierdie kunstenaar inderdaad van wêreldgehalte is, maar dit hoef nie uitgespel te word nie. Sy ontsagwekkende oeuvre, die wydheid van sy vertalings, maar ook sy statuur in die wêreldletterkunde, spreek vanself. Maar mag die klokhelder stem van hierdie jongste, klein en weerlose taaltjie dalk in hierdie gevaarlike tye waarin ons leef, opklink, die outentieke stem van ’n digterseun van Bonnievale se kontrei."

Alwyn Roux resenseer die na-dood op LitNet en sy slotsom is: "In die ses afdelings van die na-dood kom bekende leitmotiewe van Breytenbach se werk opnuut weer aan bod: die digterlike alter ego’s soos Jek, Bill en Woordvark, die parodieë van verse, sintuiglike waarneming van plekke, die nuwe wending van sy verjaarsdagverse, die in gesprek tree met intertekste. Dit is egter ook die belangrike uitsprake omtrent sy interne poëtika, sy innige gesprek met die leser, sowel as die verbluffende verstegniese aspekte van sy werk, wat Breyten Breytenbach se meesterskap bevestig.

 gaan gaan
oorkantoewer gaan
klaar oorkantoewer vergaan

o vreugde ontwaak."

In 2019, die jaar van Breyten Breytenbach se 80ste verjaardag, verskyn twee nuwe bundels van hom op die rak. Behalwe die nuwe een, op weg na kû: ’n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een, verskyn daar ook ’n versamelbundel onder die titel Rooiborsduif: gedigte oor die liefde, saamgestel deur Charl-Pierre Naudé.

Op Netwerk24 (3 Junie 2019) beskryf Louise Viljoen op weg na kû as "omvangryk en diepgrawend". "Dié bundel, gepubliseer in die jaar wat die digter 80 word, is ’n verdere bevestiging van die uitbarsting van digterlike kreatiwiteit in sy werk sedert 2007, met nie minder as ses bundels wat in die laaste twaalf jaar verskyn het nie.

"op weg na kû bou voort op die ryk verskeidenheid temas wat kenmerkend is van Breytenbach se oeuvre. In sy geval is daar nie soseer sprake van radikale vormlike en inhoudelike verskuiwings in opeenvolgende bundels nie, maar eerder van ’n steeds grondiger ontginning van dit wat hom reeds sedert sy debuut interesseer.

"Vanaf die verskyning van Die beginsel van stof in 2011 word die woordteks in sy bundels ook aangevul met afdrukke van skilderye, tekeninge, foto's en ander visuele beelde. Sy bundels word dus steeds meer verteenwoordigend van sy verbale én visuele kunstenaarskap, soveel so dat daar al gepraat word van 'kunstenaarsboeke' eerder as bundels. In op weg na kû word dit ook aangevul met ’n versameling notas aan die einde van die bundel sodat ’n mens ook die stem van die essayis en die denker in die bundel hoor."

Oor die bundeltitel sê Viljoen dat dit ’n baie duidelike wysing is dat daar ’n sterk aanwesigheid van die meditatiewe tradisie van die Boeddhisme in die bundel is. "Op die tweede mottoblad verskyn daar ’n aanhaling uit die hart-soetra, ’n versameling spreuke wat daagliks in Zen-kloosters geresiteer word. Dit verskaf ’n duidelike leidraad tot die titel: 'die vorm (shiki) is nie verskillend van die leeg (kû) / en léég is nie verskillend van vorm nie / shiki is kû, kû is shiki'.

"Die bundel gee dus ’n aanduiding van die digter se tog op pad na begrip van die leegte wat ook vorm is en hoe hierdie tradisie ’n mens help om om te gaan met jou pyn, verlange en vrees. Hierdie aanloop tot die bundel suggereer trouens dat ’n mens Breytenbach se ganse oeuvre sou kon lees as ’n soort inkantasie van die hart-soetra waarin leegheid met vorm versoen word.

"Dit is egter nie die enigste invalshoek tot interpretasie wat die bundel bied nie. Die leser word by herhaling aangespreek en eksplisiet medeverantwoordelik gemaak vir wat tydens die lees van die bundel gebeur. Juis daarom kan die leser ook die inisiatief neem om te besluit waar om die fokus te rig en watter aksente om te lê tydens die lees. (...)

"Daar is al meermale gesê dat poësie die ideale teenmiddel is vir die koorsagtige verbruikerskultuur (die bundel verwys ook na 'profytisme') waarin ons vasgevang is. Dit word in oormaat bewys deur hierdie bundel, wat nog een van die merkwaardige boustene in Breytenbach se oeuvre is: Dit is elegies, vreugdevol, kompleks, intens en formidabel. Die aandagtige lees daarvan sal die leser ryklik beloon."

Op Versindaba sluit Bernard Odendaal sy bespreking van op weg na kû só af: "Die sterflikheidsgegewe het, soos Hein Viljoen in sy Breytenbachprofiel (in Perspektief en profiel) aantoon, uit die staanspoor ’n sentrale plek in die digter se oeuvre beklee. Dwingender as in op weg na kû het dit egter nog nie gefigureer nie.

"Steeds het dit ’n verhewigde kreatiwiteitsdrif as reaksie by die digter tot gevolg. Alles word tot digkuns verwerk en omgewerk. Selfs motto’s word as digwerk aangebied, en waarin eie en ander se woorde moeilik ontwarbaar raak. Dieselfde geld die NOTAS wat agterin die bundel aangebied word, soms ter verklaring van aspekte van die gedigte waarvan hulle die nommers dra, maar heel dikwels as voortdigtings op daardie gedigte. ’n Web van aangehaalde en eggo-ende tekste, ook van eie skepping, en in meerdere tale, strek deur die bundel. Voeg hierby die vervaging van literêre genregrense, asook die deurspekking van die bundel met visuele kunswerke. Dis die héle Breyten Breytenbach, pseudonieme en al, foto’s van homself en sy vriende/geliefdes en al, woord- en beeldende kunswerke en al, wat die leegte voor ons oë vol kom dans.

"Dit geskied by wyse van ’n bundelstruktuur – soos eintlik die opset van sy hele oeuvre – wat as van transformerend-variërende, oftewel fugale aard bestempel kan word. (Hein Viljoen praat in sy profiel van Breytenbach van ’n 'swerfjoernaalagtigheid' in hierdie verband.) Een van die gedigte in die bundel (4.3.3) dra juis 'fuga' as titel. ’n Ander (7.8.3) heet 'cantus firmus' – ’n term wat dui op ’n musikale struktuur waarin ’n bepaalde melodie as basis dien vir ’n polifoniese komposisie. Die sterflikheidsgegewe is die 'cantus firmus' van hierdie bundel; die digkuns die polifoniese uit- én kontrawerking daarvan. Soos dit teen die einde van gedig 4.3.3 lui:

[…] gee […] toe
dat die dood ’n herrangskikking
van veranderende en so verskuiwende
(verganende) danspatrone
gaan uitstippel tot in die verskiet[.]

 "Om ’n omvangryke, diepsinnige digwerk soos hierdie bundel onder oë te neem, is geen geringe onderneming nie. Ek het in hierdie resensie maar net hier en daar kon krap in die vrugbare grond daarvan.

"Tog voel ek reeds ryklik beloon deur my poging. Aangevuur om steeds nuut te word teen die niet in; om op 'die lang sterwensgang na Kû, die koebaai' soos die groot Duitse skrywer Goethe te bly vra na 'Mehr Licht!', en te bly 'negeergenereer' (aanhalings uit gedig 8.3).

"Watter belewenis is hierdie bruisende sterflikheidsbundel nie."

Op haar blog, Woorde wat weeg, skryf Joan Hambidge die volgende oor op weg na kû: "Daar is lettervlesse en beelde wat die leser laat duisel. Die intieme leser word ’n liesleser en dus ’n geliefde. Daar is woordspeletjies, rymers, ’n leë gedig, foto's, reisbeskrywings en woordoorloopsels. En metaforismes. Die metafoor as die ewige proses van metamorfose is immers waaroor hierdie digkuns handel.

"Hoewel die gedig as ’n waan gesien word, maak hy ook ’n aanklag oor die toekoms van Afrikaans in hierdie bundel en hoe universiteite die taal, gesalpeter in hierdie land soos hy dit klinkend stel, verminder:

wanneer jy die moedertong
 in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg
verduister jy my geheue
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder ’n eie paar skoene
die toekoms moet ondergaan

(118: 6.9)

"Want vir ’n digter is die skryfproses intiem en verbonde aan ’n moedertaal met sy 'mondmaniere'. Anders word die digter ’n gefuikte papegaai wat gewoon pik-pik in ’n nabootsing.

"Van die mooiste liefdesgedigte is deur hom geskryf en sy enorme bydrae as digter val nie te betwyfel nie. My gunstelinge: Die ysterkoei moet sweet (1964), Lotus (1970), Voetskrif (1976), 'Yk' (1983), Papierblom (1998), Die beginsel van stof (2011). En hy is ’n digter van wie ek ten minste tien gedigte uit die hart uit kan opsê.

"Of hy surrealisties dig of ’n fantasmagoriese lykdig skryf oor sy moeder of ’n aanklag oor ongeregtigheid, is sy stem onbetwisbaar, herkenbaar: BB. Breyten Breytenbach word tereg beskou as een van die grootste lewende digters in Afrikaans." 

Oor Rooiborsduif skryf die uitgewers in hulle inligtingstuk: "’n Oorsig van Breyten Breytenbach se digkuns is ’n voëlvlug oor ’n wye era: vanaf die jare sestig tot vandag, waarin beide Europa en Afrika hulself radikaal herdefinieer het. In hierdie herdefiniëring staan Breyten Breytenbach, die digter, mens en denker soos ’n skakelende deurpos.

"Elke gedig is soos ’n tekening of ’n skildery waarin tekens en betekenis in vloeiende verbande tot mekaar staan en waarin gunstelingtemas weer en weer ter sprake kom – elke keer uniek geskommel soos kwashale op die doeke van Jackson Pollock se skilderye of die stippels in ’n kaleidoskoop wat nooit ophou draai nie.

"Die gedigte is chronologies gerangskik volgens die digter se lewensgang: jongmenslewe in Kaapstad, Parys, effektiewelike bannelingskap weens sy huwelik, terugkeer en tronkstraf, die buiteland. En oplaas ’n onrustige pendelaarslewe tussen noorde en suide van die aardbol, waarin volledige tuiskoms slegs in die arms van die liefde is."

In 2017 ontvang Breyten Breytenbach die gesogte Zbigniew Herbert Internasionale Literêre toekenning. Die drie beoordelaars was Yuri Andrukhovych, Michael Kruger en Jarosław Mikołajewski.

Andrukhovych het gesê behalwe dat Breyten Breytenbach ’n uitstaande digter in die huidige tyd is, hy ook ’n lewendige en sterk persoonlikheid het. Hy was ’n voorvegter, en is dit steeds, vir menslike waardigheid, veral teen apartheid en sy "tradisies" – nie net met sy skryfwerk nie, maar ook deur sy dade. Hy verteenwoordig Afrikaans, ’n taal wat in gevaar staan om stadig maar seker te verdwyn. Hy brei sy lewe uit en skryf poësie as weerstand teen onderdrukking.

Ook Michael Kruger meen dat as digter, skrywer, skilder en aktivis Breyten Breytenbach sonder twyfel die mees talentvolle en mees produktiewe digter in die letterkunde van "White-Africa" is. Sy reisboeke oor Suid-Afrika ná apartheid bied ’n duidelike en oortuigende beeld van die probleme wat nog nie opgelos is nie: die botsing tussen die mentaliteit van die swart en wit bevolkingsgroepe.

In sy poësie, wat gevul is met beeltnisse en linguistiese uitvindsels, gee hy uitdrukking aan die gevoelens van ’n empatiese moderne man wanneer hy gekonfronteer word deur die argaïese kultuur van die mense saam met wie hy lewe. Hy word beskou as een van die uitstaande digters én skilders van die moderne wêreld.

Jarosław Mikołajewski (Herbert-stigting-webwerf) het die volgende oor Breytenbach te sê gehad: "Breyten Breytenbach is a remarkable poet and a remarkable human being. What distinguishes his poems is their moral tension, its range, and dynamism of the imagination. The quality of his humanity – zero tolerance of violence, discrimination, inequalities; a Herbert-like imperative not only to recount, but also to stand with the weak. His human qualities brought earned him admiration, brotherhood, and seven years in prison for his uncompromising stand in a good cause. Today, his poetic qualities bring him the Zbigniew Herbert Award.

"In his poetry, Breytenbach engages the full richness of the worlds inhabited by man: of love, attachment to the land, recognizing each other by our response to others. He is a poet born in the South African town of Bonnievale, writing in Afrikaans and English (somewhere between these languages, in the fissure that represents what is best in both), painter and interpreter of love, landscape, fate and brotherhood – experienced in joy.

"Breyten Breytenbach is a poet – a sensual sage, opening before us a volume of dizzying, passionate Logos, with a sense of humility and purpose, unyielding curiosity of other people, the world, and what they mean, these inanimate and sentient inhabitants."

In November 2018 is ’n uitstalling van meer as 30 van Breytenbach se kunswerke by die Stevenson-galery in Woodstock in Kaapstad gehou onder die titel The 81 ways of letting go a late self. Dit was sy eerste solo-uitstalling in ’n kommersiële galery in Suid-Afrika.

Sy eerste kunsuitstalling was in die 1960's in Amsterdam en hierdie een in Kaapstad was die uiteinde van ’n gesprek tussen Breyten en die mededirekteur van die Stevenson-galery, Joost Bosland. Bosland het vertel dat Breyten teenoor hom erken het dat hy skilder bo skryf verkies omdat dit meer ontspannend is.

Publikasies:

Publikasie

Die ysterkoei moet sweet

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1967
  • 1972
  • 1974
  • 1983

ISBN

0628000650 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

1965 APB-prys saam met Katastrofes

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Roodt, PH: Die ek-spreker in die ysterkoei moet sweet deur Breyten Breytenbach: https://repository.up.ac.za

 

Publikasie

Katastrofes

Publikasiedatum

  • 1964
  • 1981

ISBN

0798111445 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

1965 APB-prys saam met Die ysterkoei moet sweet

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die huis van die dowe

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1974
  • 1982

ISBN

  • 0798103884 (hb)
  • 0798112743 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • 1967 CNA-prys
  • 1968 Reina Prinsen Geerling-prijs voor Zuid-Afrika

Vertalings

Nederlands 1976

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kouevuur

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1973
  • 1981

ISBN

0620052910 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Buren
  • Johannesburg: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

1969 CNA-prys

Vertalings

1976 Frans vertaal deur G-M Lory

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lotus (onder die skuilnaam Jan Blom)

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1981
  • 1987

ISBN

0620052929 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Buren
  • Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • 1970 CNA-prys
  • 1972 Lucy B en CW van der Hoogt-prijs

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oorblyfsels uit die pelgrim se reis na die tydelike

Publikasiedatum

1970

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Buren

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Om te vlieg: ’n opstel in vyf ledemate en ’n ode

Publikasiedatum

1971

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Buren

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skryt, om ’n sinkende skip blou te verf: verse en tekeninge

Publikasiedatum

1972

ISBN

(hb)

Uitgewer

Amsterdam: Meulenhoff

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • 1977 Engels vertaal deur A Brink, R Leigh-Loohuizen en D Hirson
  • 1983 Nederlands vertaal deur A van Dis

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met ander woorde: vrugte van die boom van stilte

Publikasiedatum

1973

ISBN

0869630075 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Buren

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1977 Nederlands (Nederlandse titel: Met andere woorden: gedichten 1970–1975)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

De boom achter de maan: verhalen

Publikasiedatum

1974

ISBN

9060122232 (sb)

Uitgewer

Amsterdam: Van Gennep

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertaal uit Afrikaans deur Adriaan van Dis en Jan Louter – hoofsaaklik uit Katastrofes

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Seisoen in die paradys

Publikasiedatum

1976

ISBN

 

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • 1980, 1985 Engels vertaal deur Rike Vaughan
  • 1983 Duits vertaal deur Arnold Blumer
  • 1984 Nederlands vertaal deur A van Dis en H Ester
  • 1986 Frans vertaal deur Jean Guiloineau
  • 1986 Sweeds vertaal deur G Peterson

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voetskrif

Publikasiedatum

1976

ISBN

0628009445 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

1977 Perskorprys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Blomskryf: uit die gedigte van Breyten Breytenbach en Jan Blom

Publikasiedatum

1977

ISBN

0620023880 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kreuz des Südens Schwarzer Brand: Gedichte und Prosa Saamgestel deur Pieter Zandee

Publikasiedatum

1977

ISBN

3803100895 (hb)

Uitgewer

Berlin: Klaus Wagenbach

Literêre vorm

  • Poësie
  • Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

In Duits vertaal uit Afrikaans en Nederlands deur Rosi Bussink

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

And death white as words: an anthology of poetry of Breyten Breytenbach

Publikasiedatum

1978

ISBN

9780860360919 (hb)

Uitgewer

  • Londen: Collings
  • Kaapstad: David Philip

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertaal uit Afrikaans deur verskeie vertalers

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In Africa even the flies are happy: Selected poems 1964–1977

Publikasiedatum

1978

ISBN

0714536962 (sb)

Uitgewer

Londen: John Calder

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertaal deur Denis Hirson

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die miernes swel op; Ja die fox-terrier kry ’n weekend en ander byna vergete katastrofes en fragmente uit ’n ou manuskrip

Publikasiedatum

1980

ISBN

062046996 (hb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vingermaan: tekeningen uit Pretoria (Met ’n bydrae van oa Lucebert)

Publikasiedatum

1980

ISBN

(sb)

Uitgewer

Amsterdam: Meulenhoff

Literêre vorm

Kuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

(‘yk’): die vierde bundel van die ongedanste dans

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1984

ISBN

0620068590 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • 1983 CNA-prys
  • 1984 Hertzogprys (Geweier)
  • 1986 Rapport-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eklips: die derde bundel van die ongedanste dans

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1984

ISBN

  • 0620065915 (sb)
  • 9029018135 (sb)

Uitgewer

  • Emmarentia: Taurus
  • Amsterdam: Meulenhoff

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Mouroir: bespieëlde notas van ’n roman

Publikasiedatum

1983

ISBN

0620068582 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • 1983 Frans vertaal deur Jean Guiloineau
  • 1984, 1985, 1994 Engels (Londen en New York)
  • 1985 Deens vertaal deur Lars Bonnevie
  • 1985 Nederlands vertaal deur G de Blaauw
  • 1986 Baskies vertaal deur Felipe Juaristi
  • 1987, 1989 Duits vertaal deur U Wiltmann

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Kellman, Steven G: Mouroir by Breyten Breytenbach: review

 

Publikasie

Buffalo Bill – panem et circenses; ’n binne met oneindig veel buite gelap: die tweede bundel van die ongedanste dans

Publikasiedatum

1984

ISBN

0620072204 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Notes of bird

Publikasiedatum

1984

ISBN

9029018860 (sb)

Uitgewer

Amsterdam: Galerie Espace; Meulenhoff (Verskyn met die uitstalling van Breytenbach se skilderye by Galerie Espace)

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The true confessions of an Albino terrorist

Publikasiedatum

1984

ISBN

  • 0571133932 (hb)
  • 05711361138 (sb)
  • 0620075104 (sb)

Uitgewer

  • Londen: Faber & Faber
  • Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • 1984 Deens vertaal deur Mogens Boisen
  • 1984 Duits vertaal deur D Haug & S Oberlies
  • 1984 Frans vertaal deur Jean Guiloineau
  • 1984 Nederlands vertaal deur G de Blaauw en A van Dis
  • 1985 Portugees (Brasilië) vertaal deur MP Fereira
  • 1985 Sweeds vertaal deur T Preis
  • 1986 Spaans vertaal deur JF Felta
  • 1987 Portugees vertaal deur W Ramos
  • 1989 Italiaans vertaal deur Maria Teresa Carbone

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lewendood – kantlynkarteling by ’n digbundel: die eerste bundel van die ongedanste dans

Publikasiedatum

1985

ISBN

0620077212 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

End papers: esssays, letters, articles of faith, workbook notes

Publikasiedatum

1986

ISBN

0571139442 (hb)

Uitgewer

Londen: Faber & Faber

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Prosa

Vertalings

  • 1986 Duits vertaal deur M Müller as Schlussakte Südafrika
  • 1986 Nederlands vertaal deur G de Blaauw en M Polman as De andere kant van de vrijheid
  • 1986 Frans vertaal deur Jean Guiloineau

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boek. Deel een: dryfpunt

Publikasiedatum

1987

ISBN

0947046097 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Judas Eye and Self-portrait/Deathwatch

Publikasiedatum

1988

ISBN

0571151221 (hb)

Uitgewer

Londen: Faber & Faber

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Vertaal deur outeur en Denis Hirson

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Memory of snow and dust

Publikasiedatum

1989

ISBN

0947046194 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

1989 CNA-prys (Engels)

Vertalings

1989 Frans vertaal deur Jean Guiloineau

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soos die so

Publikasiedatum

1990

ISBN

0947046313 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

All one horse: fictions and images

Publikasiedatum

  • 1990
  • 2008

ISBN

  • 0947046240 (sb)
  • 9780979333071 (sb)

Uitgewer

  • Bramley: Taurus
  • New York: Archipelago Books

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1990 Frans vertaal deur Jean Guiloineau

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hart-lam (’n leerboek)

Publikasiedatum

1991

ISBN

0947046402 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Painting the eye: compiled for his first one-man exhibition in South Africa

Publikasiedatum

1993

ISBN

0864862709 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: David Philip

Literêre vorm

Kuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde

Publikasiedatum

  • 1993

ISBN

0620176253 (sb)

Uitgewer

  • Groenkloof: Hond
  • Somerset-Wes: Intaka

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

1996 Helgaard Steyn-prys

Vertalings

1995 Nederlands vertaal deur A van Dis

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Return to paradise

Publikasiedatum

1993

ISBN

0864862563 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: David Philip

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

1994 Sunday Times / Alan Paton-prys vir niefiksie

Vertalings

1993 Nederlands vertaal deur Mea Flothuis

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Plakboek: Moving on: verjaarde reisverse vir Hiang Lien

Publikasiedatum

1994

ISBN

1874969051 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Hond

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit de eerste hand: schilderijen, tekeningen en essays

Publikasiedatum

1995

ISBN

9789029050302 (sb)

Uitgewer

Frans Hals Museum

Literêre vorm

Kuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die hand vol vere: ’n bloemlesing van die poësie van Breyten Breytenbach . Saamgestel deur Ampie Coetzee

Publikasiedatum

1995

ISBN

079813397X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The memory of birds in times of revolution

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135026 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vertaalproject Breyten Breytenbach: 27e Poetry International 1996

Publikasiedatum

1996

ISBN

(sb)

Uitgewer

Rotterdam: Stichting Poetry International

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oorblysels: ’n roudig: ter herinnering aan Daantjie Saayman (onder skuilnaam Jan Blom)

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137037 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

1999 Hertzogprys saam met Papierblom

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Papierblom (72 gedigte uit ’n swerfjoernaal)

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138173 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

1999 Hertzogprys saam met Oorblyfsels

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Boklied: ’n vermaaklikheid in drie bedrywe

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138381 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

1998 De Kat-Herrieprys by KKNK

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dog heart: a travel memoir

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138564 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

1999 Nederlands vertaal deur Ellen Beek

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woordwerk (die kantskryfjoernaal van ’n swerwer)

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139420 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lady One (99 liefdesgedigte)

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140127 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Nederlands
  • Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ysterkoei-blues: versamelde gedigte (1964–1975)

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141875 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die toneelstuk (’n belydenis in twee bedrywe)

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141743 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ongedanste dans: gevangenisgedigte, 1975–1983

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144025 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • 1987 Nederlands vertaal deur L Vancrevel
  • 1987 Frans vertaal deur G-M Lory

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die windvanger

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798147507 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • 2008 Hertzogprys
  • 2008 Universiteit van Johannesburg-prys vir Skeppende Skryfwerk
  • 2008 WA Hofmeyr-prys

Vertalings

2007 Engels

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

A veil of footsteps (memoir of a nomadic fictional character)

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149273 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oorblyfsel / Voice over: Op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj / A nomadic conversation with Mahmoud Darwish

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150712 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Brooklyn, NY: Archipelago Books

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Magmoed Darwiesj-stigting se ­inhuldigingsprys 2010
  • Max Jacob-prys 2010
  • Protea-prys vir beste digbundel 2010

 

Vertalings

2009 Frans vertaal deur Georges-Marie Lory

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Notes from the Middle World

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781931859912 (sb)

Uitgewer

  • Chicago, IL: Haymarket Books

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • 2009 Frans vertaal deur Jean Guiloineau
  • 2010 Nederlands vertaal deur KP Hesselink

 

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

die beginsel van stof

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152211 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Katalekte. Artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798157926 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vyf-en-veertig skemeraandsange

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798166461 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Parool: versamelde toesprake / Parole: collected speeches. Saamgestel deur Francis Galloway

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781770229181 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Penguin Random House

Literêre vorm

Toesprake

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die singende hand: versamelde gedigte 1984–2014

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798172134 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 2017 vertaal deur Laurens van Krevelen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

die na-dood: (die singende hand se oggendboek-herinneringe)

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798172462 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

op weg na kû: ’n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780798178624 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rooiborsduif: gedigte oor die liefde. Saamgestel deur Charl-Pierre Naudé

Publikasiedatum

2019

ISBN

978798178761 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Breyten Breytenbach as vertaler

  • Acker, Helen: Die skooltrein. Kaapstad: Human & Rousseau, 1970
  • Gifford, Griselda: Die geheim van die houtbene. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1968
  • Shakespeare, William: Titus Andronicus. Kaapstad: Buren, 1970

Breyten Breytenbach as redakteur

Imagine Africa. Island Position, Gorée Institute, 2011

Boeke oor Breyten Breytenbach

  • Coetzee, AJ, redakteur : Woorde teen die wolke. Vir Breyten. Emmarentia: Taurus, 1980 [ISBN 9789000050048 (hb)]
  • Coullie, JudithLütge en Jacobs, JU, redakteurs: aka Breyten Breytenbach: Critical appraoches to his writings and paintings. Amsterdam: Rodopi, 2004
  • Ferreira, Jeanette: Breyten, die simbool daar. Kaapstad: Saayman & Weber, 1985 [ISBN 9780797100220 (hb)]
  • Galloway, Francis: Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr, 1990 [ISBN 9780798627054 (sb)]
  • Galloway, Francis, redakteur: Breyten Breytenbach: woordenaar woordnar – 'n huldiging. Pretoria: Protea Boekhuis, 2019 
  • Jolly, Rosemary J: Colonization, violence, and narration in white South African writing: André Brink, Breyten Breytenbach and JM Coetze Athene: Ohio University Press / Johannesburg: Witwatersrand University Press, 1996 [ISBN 9780821411315 (sb)]
  • Saayman, Sandra: Breyten Breytenbach. A monologue in two voices. Johannesburg: Fourthwall Books, 2013 [ISBN 978-0-987-0429-41 (pbk)]
  • Carolin, Andy: Breyten Breytenbach, A monologue in two voices 
  • Sassen, Robyn: Oh. For more meat on these bones 
  • Viljoen, Louise: Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Stellenbosch: SunMedia, 2014 [ISBN 9781920338831 (sb)]
  • Van Vuuren, Helize: Resensie: Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach 
  • Vitackova, Martina: Review
  •  

Artikels oor Breyten Breytenbach beskikbaar op die internet

 

Artikels deur Breyten Breytenbach beskikbaar op die internet

 

The life and times of Johnny Cockroach: Besprekings

Die lys van vertalings kan onvolledig wees. Daar is ’n wye verskeidenheid biografiese artikels beskikbaar op die internet (te veel om hier te lys).

Baie dankie aan Francis Galloway, wat goedgunstiglik gehelp het om die lys van publikasies op datum te bring.
 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 16/09/2019

The post Breyten Breytenbach (1939–) appeared first on LitNet.

Corlia Fourie (1944– )

$
0
0

Corlia Fourie (1944–)

Gebore en getoë

Cornelia Hilda (almal noem haar Corlia) Fourie is op 11 Desember 1944 in Kuilsrivier naby Kaapstad gebore, die oudste uit die tweede huwelik van die skrywer CH Kühn, of Mikro, soos hy beter bekend was, met Ora Steyn. Sy het ’n broer en ’n suster. Op vyfjarige ouderdom verhuis hulle na Oudtshoorn, en later na Pretoria, waar Corlia haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd voltooi.

Corlia vertel aan Kristie Herbst (Rooi Rose, 4 Desember 1991) dat sy haar kinderjare as "wonderlik en sorgeloos" onthou. "Ons het naby Oudtshoorn gewoon en ek het kaalvoet skoolgegaan tot ek elf jaar oud was. Ons het langs die riviertjie gespeel, bootjies in die sloot laat seil en kos in ’n blik gemaak. Dit was heerlik."

Sy meen dat sy wel haar belangstelling vir skryf van haar pa geërf het, want hy het altyd saans vir hulle stories vertel – stories wat hy self opgemaak het – hoewel hulle as kinders nie eens bewus was dat hy ’n groot skrywer was nie. “Hy’t nooit ’n ophef daarvan gemaak nie en gewoonlik geskryf terwyl ons nog geslaap het.” Haar ma was die een wat vir hulle stories voorgelees het. (Rooi Rose, 4 Desember 1991)

Maar sê sy verder aan Herbst: "Ek het skool regtig gehaat – veral die drilwerk. Ek is nie goed met feite memoriseer nie. Maar van opstel skryf het ek gehou, want ek kon onderwerpe draai om my te pas."

As kind was Corlia vreeslik lief vir stories, daarom skryf sy graag stories vir kinders. Dit is ’n heeltemal ander manier van skryf – amper die teenoorgestelde van om vir grootmense te skryf. Van haar pa se vier kinders is sy die enigste een wat skryf.

Corlia vertel aan Terésa Coetzee (Beeld, 14 Junie 2013) dat as sy weer met haar pa, die bekende skrywer Mikro, kon praat, sy vir hom dankie sou sê – "vir ons studeerkamer met die eklektiese boekversameling waar ek as kind enige boek kon lees. Daar was romans van internasionale skrywers soos Feodor Dostojewski, William Faulkner en Charles Dickens, Afrikaanse digbundels van NP Van Wyk Louw en Elisabeth Eybers, maar ook werke van Agatha Christie, Karl Kielblock en Elma Steyn. Sondagmiddae (as my ouers geslaap het) was die tyd om die kunsboeke – Rembrandt, die impressioniste (Manet en Monet) en die postimpressioniste Van Gogh, Cézanne en Gauguin – te leer ken."

Vir Corlia was haar pa ’n lekker pa vir meisiekinders, vertel sy aan IL de Villiers (Sarie, 25 Maart 1987). "Ek weet nie wat my broer sal sê nie, maar ek en my suster het hom eintlik om ons pinkies gedraai. Ons het altyd geweet wie ons moet vra wanneer my ma dalk sou nee sê. Hy kon nooit vir ons nee sê nie."

Mikro is oorlede toe Corlia 22 was en het ongelukkig nie die voorreg gehad om te sien hoe sy dogter in sy voetspore volg nie. Haar ma is in 1997 oorlede.

Corlia en haar suster was nie eintlik gediend daarmee dat hulle as "Mikro se dogters" bekend moes wees nie, terwyl haar ouer broer hom nie eintlik veel daaraan gesteur het nie. "Ek dink mense reageer op twee maniere wanneer jy ’n bekende se kind is: die een groep is besonder gaaf teenoor jou. Hulle maak ook ’n spesiale ophef van jou. Dan is daar natuurlik mense wat nie daarvan hou nie en hulle wil jou altyd ’n knypie of stekie gee. Óf hulle hou nie van jou pa nie, óf hulle hou nie daarvan dat sekere mense bekend is en hulle nie. Daarom het ons niks daarvan gehou nie.

"Daar was ’n stadium dat ek nie wou hê my pa en ma moes saam by die skool aankom nie. Maar dit was nog voordat ek mooi besef het my pa is bekend. My pa was baie lank en my ma was so kort ... en my pa was baie ouer as my ma. Hulle twee het opgeval en kinders wil tog hê almal moet dieselfde wees."

 

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Corlia na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA-graad in 1965 behaal met Sielkunde en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Na universiteit begin sy werk as joernalis by Die Burger. In 1968 begin sy die Johannesburgse kantoor van Sarie en werk daar tot 1972. Sy trou met Frans Fourie en hulle het twee dogters, Marianne en Carina, wat nou albei oorsee woon.

Na die kinders se geboorte werk Corlia as vryskutjoernalis by onder meer Beeld en Huisgenoot. Tans is sy verhaleredakteur by Rooi Rose en doen sy nog altyd vryskutwerk as joernalis.

Corlia sê sy bly al vir “ewig en ewig” in Johannesburg, maar altyd as sy teruggaan Kaap toe, is dit vir haar die mooiste plek en wil sy trek, maar sy is gewoond aan Johannesburg en al haar vriende is daar. (Rapport, 1 Mei 2008)

In 1980 is Frans Londen toe verplaas as ’n korrespondent vir ’n Afrikaanse tydskrifgroep. Corlia doen ook vryskutwerk in Londen vir Suid-Afrikaanse publikasies. Na meer as tien jaar as joernalis is sy moeg om dieselfde stories oor en oor te skryf en so ontstaan haar eerste drama, Moeders en dogters. Dit neem haar ’n hele jaar om die drama te skryf en dit was vir haar baie moeilik, want sy het nie die tegniek van dramaskryf onder die knie gehad nie. Groot was haar verbasing dus toe daar mense is wat die stuk wil opvoer. 

André P Brink (Rapport, 15 September 1985) skryf dat hoewel Moeders en dogters nie as besonder indrukwekkend beskryf kan word nie, dit tog "netjies en goed versorg" is, maar dit mis daardie "hart van waansin wat die blywendste dramas en literatuur kenmerk".

Die verhaal gaan oor "’n krisis-situasie in ’n gesin van vroue (moeder en drie dogters), agtergelaat deur die dood van ’n vader, vroeër ’n talentvolle skilder, maar mettertyd bloot ’n prentjiemaker. Op elk word ’n bestekopname afgedwing, wat op die een of ander wyse te doene het met menslike – nie net vroulike nie – emansipasie ..."

Vir Brink is dit tot nadeel van die dramatiese dat daar nie "intensiewe interaksie" in die stuk is nie. "Aan die ander kant blyk dit ook wel hoe ver ons dramaturgie gevorder het as mens Moeders en dogters vergelyk met WA de Klerk se Jaar van die vuuros, waarin spanninge in ’n blanke gesin ook onder die druk van ’n gewelddadige situasie binnenshuis geplaas word."

As ’n mens Fourie se stuk vergelyk met De Klerk s'n, is Moeders en dogters nugter, op die mens af gespeel, "met ’n vermoede van groter magte wat kleef aan alledaagse handelinge. Dat daardie groter magte nie genoegsaam losgebreek word nie, maak die stuk yler en kleiner as wat hy kon gewees het. Maar daar is genoeg aanduidinge om te vermoed dat ons hier te doen het met ’n beginpunt wat nog ’n waardevolle impuls tot ons drama sal kan bydra."

Oor die opvoering van Moeders en dogters in die destydse Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap) onder regie van Pieter Fourie skryf Kerneels Breytenbach (Die Burger, 8 November 1985): "Corlia Fourie het met die basiese storie ’n stuk geskep wat so ryk is aan inhoud dat ’n mens skoon nederig voel – as dit Fourie se debuut is, hoeveel groot dinge wag daar nie nog op haar nie? (...)

"Pieter Fourie het die stuk treffend op die planke gebring. Die dramatiese potensiaal is groot, en hy het dit uitstekend benut. Daar is dele van die opvoering waar jy voel asof iemand jou met ’n voorhamer geslaan het, waar emosies en gevoelens só rou blootgestel word dat ’n mens skrik daarvoor.

"Moeders en dogters is die soort toneelstuk wat ek graag weer sal wil sien. Dit is aktueel, maar nie opdringerig nie. Dit is intens, maar nooit onrealisties nie."

Moeders en dogters ontvang die Amstel Meriete-prys vir drama en word in Stellenbosch en Kaapstad opgevoer, sowel as oor die radio en op televisie. Hierdie drama is ook in 2006 gekies as die Suidoosterfees in Kaapstad se vlagskipproduksie met spelers soos Susanne Beyers, Martelize Kolver, Elizabeth de Villiers, Leanne Dreyer en Christy-Ann Julies.

In 1984 keer die gesin terug na Suid-Afrika en word Corlia se tweede drama, En die son skyn in Suid-Afrika, gepubliseer. Dit word in 1987 deur Truk opgevoer en haar man verwerk dit en wen M-Net se prys vir TV-komedies. (Sy en Frans is intussen geskei.) Drie ander dramas word ook professioneel opgevoer: Leuens onder die titel Hoer of heilige deur Die Bywoners, Poppespel deur Swaruk en Erfgoed by 1992 se ATKV-Kampustoneel. Laasgenoemde twee is nie gepubliseer nie. Corlia skryf ook radiodramas soos Om met ’n kat te speel, waarvoor sy in 1989 vir die Idem-prys vir draaiboeke genomineer is.

Leuens is in 1985 in boekvorm gepubliseer. Dit handel oor ’n oupa wat sy kleindogter verkrag. Kristie Herbst (Rooi Rose, 4 Desember 1991) wou by Corlia weet hoekom sy so ’n "gewaagde" onderwerp gekies het: "Bloedskande was ’n onderwerp wat baie in die koerante in Londen (toe ons daar gewoon het) na vore gekom het, en dit het my geboei. Terug in Johannesburg het ek op verskeie berigte oor verkragtings afgekom en dit het my oortuig dat ek iets daaroor te sê gehad het.

"Toe skryf ek ’n drama daaroor. Daar was net twee karakters – albei vroue – en ek dink die stuk was heel geslaag. Elma Potgieter het die hoofrol vertolk en Karen Fourie was die sielkundige.

"Ek het nie nodig gehad om te veel navorsing oor die onderwerp te doen nie. Toe die stuk klaar is, het ek dit vir ’n sielkundige gegee om deur te lees – net om seker te maak dat dit darem geloofwaardig is. Gelukkig het sy nie juis iets verkeerds gevind nie."

Kristie Herbst wou by Corlia weet hoe sy weet wanneer ’n drama geslaag is: "Dis moeilik," sê Corlia, "want die gehoor wissel gedurig. En ’n mens is so afhanklik van die akteurs, wat baie wisselvallig kan wees, want hulle is maar net mense. Soms is hulle so geloofwaardig, en ’n volgende keer glo ek nie ’n woord wat hulle sê nie! ’n Mens voel ook maar uitgelewer aan die gehoor – wat vir een aanvaarbaar is, word deur ’n ander verwerp. Tog is dit baie opwindend om te sien hoe jou stuk op die verhoog werk."

Die drama Leuens speel af in die spreekkamer van, Anita, ’n kliniese sielkundige. Ina, ’n skrywer van kinderboeke, kom haar spreek om kwansuis inligting vir ’n nuwe boek te bekom. Dit blyk egter later dat die kind van Ina se verbeelding sy self as kind was, wie se oupa allerhande sensuele, en ook seksuele, "speletjies" met haar gespeel het.

Vir Barrie Hough (Beeld, 23 Maart 1987) gebruik Corlia Fourie die onderwerp waaroor die drama handel op ’n kundige en gevoelvolle manier. "Sy bied dit geloofwaardig aan; hoewel die sielkundige se te dikwels papegaai-herhaling soms baie steurend is. (...) Dit is ’n baie verdienstelike werk wat behoort gesien te word."

Maar voordat Corlia gedink het aan dramas skryf, verskyn daar reeds twee kinderboeke uit haar pen, naamlik Slepie, die dapper sleepbootjie (1981) en Marianne en die leeu in die pophuis (1982). In 1988 word Corlia saam met Maretha Maartens en Philip de Vos deur die Internasionale Jeugbiblioteek in München vereer deurdat hulle boeke vir ’n internasionale tentoonstelling gekies en vir vertaling aanbeveel is. Die volstruisie wat graag wou vlieg is uit 400 nuwe kinderboeke uit 44 lande in die Internasionale Jeugbiblioteek se invloedryke White Ravens Selection opgeneem. Ander kinderverhale volg en in 1991 ontvang Corlia die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterlektuur, asook die MER-prys vir Die meisie wat soos ’n bottervoël sing. In 1994 is Die wit vlinder een van drie Suid-Afrikaanse boeke wat eervolle vermelding gekry het met die Noma-prys vir Uitgewery in Afrika.

Die MER-prys beland vir ’n tweede keer in Corlia se skoot in 1995 vir Die towersak en ander stories en in dieselfde jaar ontvang sy ook die Alba Bouwer-prys vir Die wit vlinder en Die towersak en ander stories.

In sy huldigingswoord tydens die toekenning van die Tienie Holloway-medalje aan Die meisie wat soos ’n bottervoël sing sê prof JP Smuts: "Met Die meisie wat soos ’n bottervoël sing het sy [Corlia] ’n voortreflike kleuterwerk gelewer. (...) Corlia Fourie sluit in haar verhaal op vernuftige wyse aan by tradisionele sprokiespatrone. (...) Maar die werk bly nie vassteek in geykte patrone wat herlei kan word tot die Europese sprokie nie. Die ruimte van Die meisie wat soos ’n bottervoël sing is nie die wêreld van slapende prinsesse, kabouters en trolle nie. Corlia Fourie situeer haar verhaal in Afrika, ’n ruimte wat sy bevolk met krokodille, renosters, hiënas, skerpioene en koggelmanders. Sy plaas dus haar verhaal binne ’n milieu wat nie vir die kind heeltemal onbekend is nie, maar sy doen dit op so ’n wyse dat sy verbeeldingswêreld gestimuleer en uitgebou word.

"’n Geslaagde kleuterboek bevat meer as net ’n verhaal in ’n taal. Dit word voltooi deur ’n illustreerder wat die gees van die verhaal moet snap en dit op so ’n wyse kan verbeeld dat dit toelig én die fantasie verruim. In Alida Bothma het Corlia Fourie so ’n vennoot gekry. Haar tekeninge, met hulle sterk Afrika-ondertone, is evokatief en dinamies, en in die tipografie word daar ’n netjiese balans tussen teks en illustrasie gehandhaaf. Die geheel is ’n estetiese produk van die hoogste orde." (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Jaarboek, 1991)

Die meisie wat soos ’n bottervoël sing is deur Peter Klatzow, die Kaapse komponis, van musiek voorsien en die werk met orkes en verteller is as Tintinyane in Johannesburg en Kaapstad opgevoer. In die verhaal word elke karakter deur een van die instrumente in ’n simfonie-orkes uitgebeeld. Die storie vertel die verhaal van Tintinyane wat in ’n donker bos deur ’n ondier gevange gehou word. Sy haal haar sangstem uit en steek dit weg in ’n neutedoppie wat sy met ’n riempie om haar nek dra.

"Almal is saam met Tintinyane hartseer, maar dan word sy gered. Sy haal haar sangstem uit en sing weer soos ’n bottervoël."

In Die Burger van 6 April 1991 skryf Marina le Roux dat Corlia Fourie in Die meisie wat soos ’n bottervoël sing die "huislike fantasie” vir “die oerfantasie van Afrika” verruil.

"Hier word al die behoorlike elemente van die tradisionele sprokie gekombineer in ’n onweerstaanbare prenteboek. Daar is die stryd tussen goed en kwaad wat hier benede nooit volstry sal wees nie, daar is die magiese getalle en voorwerpe, die gevaarlike soektog wat eintlik ’n pelgrimsreis is, die towerformules en herhalende inkantasies, die sirkulerende simbole en die gelukkige slot. (...)

"Fourie se poëtiese teks word ondersteun en aangevul deur Alida Bothma se dramatiese en evokatiewe illustrasies. Die eindproduk is intellektueel, emosioneel én esteties besonder bevredigend."

Corlia se kinderboeke Die meisie wat soos ’n bottervoël sing (1991), Ganekwane en die groen draak (1993) en Die deurmekaardier (1994) is as naaswenners in die ATKV Kinderboek-prys aangewys.

In Ganekwane en die groen draak en ander nuwe Afrika-sprokies (1992) is daar ses sprokies met ’n heldinnetjie as hoofkarakter wat vernuf en sensitiwiteit inspan om vraagstukke op te los wat niemand anders kan oplos nie. Vir Barrie Hough (Insig, Augustus 1993) kon die titel van hierdie bundel net sowel Supermeisie gewees het.

Hough beskryf Ganekwane as ’n "lewendige bundel wat die belangstelling in elke sprokie enduit hou. Corlia Fourie woeker so met die bekende elemente van die sprokie – monsters, reuse, drie wense, toetse, ensovoorts – dat hulle in die nuwe kontekste verrassend aandoen. Die manier waarop die groen tema en natuurbeskerming terloops aangeraak word, is nogal vindingryk.

"Die verteltrant is boeiend en die Afrikaans sterk, eenvoudig en toeganklik. (...) Die strekking van die seksuele simboliek – ook tradisioneel ’n element van die sprokie – wat ’n mens plek-plek kan inlees, gee stof tot nadenke."

In Die wit vlinder (1993) is daar drie verhale wat al drie eienskappe van die klassieke sprokies uitbeeld: "Animisme, antropomorfisme, magiese realisme ensovoorts. Hoofkarakters is die gebreklikes, banges of buitestaanders," skryf Marina le Roux (Die Burger, 22 Junie 1993).

Le Roux gaan voort: "Fourie se taalgebruik is liries en ritmies, gepas in die sprokietradisie. Die handeling word egter soms opvallend uitgerek om die verhale substansie te gee, ’n deursigtige truuk wat die spanning laat verslap. Die skepper van kunssprokies het natuurlik meer vryheid van inkleding as in die tradisionele sprokies, maar geforseerde kunsmatigheid is onaanvaarbaar. (...)

"Die wit vlinder se sukses sal in groot mate afhang van die sensitiwiteit van voorleser, verteller en luisteraar."

Die towersak en ander stories (1994) bevat vyf verhale. Barrie Hough het in Insig van Junie 1994 geskryf dat Fourie ’n onuitputlike bron het waaruit sy haar verbeeldingryke en boeiende skep. Met hierdie sprokies verryk en verbreed sy die sprokiesliteratuur in Afrikaans.

Hough het verder geskryf: "Die towersak en ander stories is ’n soeke na ewewig en tevredenheid met die lewe. En in die vyf verhale van hierdie opwindende en toeganklike bundel is daar ’n tematiese eenheid eerder as los verhale. Soos Corlia Fourie se vorige sprokies is ook hierdie in ’n wye sin Afrika-sprokies, ontdaan van enige spesifieke etnisiteit. Hulle hoort dus ’n wye spektrum jong kinders se storie- en leeslus te bevredig."

Ook met Stories met stertjies (2007) gee Corlia aan sewe tradisionele sprokies ander kinkels en ontknopings. Sy omskep die sprokies sodat daar nie aan die einde ’n prinses wag vir die prins om haar wakker te soen en hulle saam in die sonsondergang wegry nie.

"Met haar herskrywings span Fourie haar vermoë as skrywer van volwassene-literatuur én kinderboeke in," skryf Annemarié van Niekerk (Rapport, 16 September 2007). "Haar werk tref veral vanweë die aktualiteit en die wyse waarop sy Afrika en Europa tematies verbind. As verhaalredakteur van Rooi Rose is sy ook daagliks in voeling met ontwikkelings in die kortverhaalgenre sowel as dit wat vroue skryf en lees.

"In Stories met stertjies pas sy hierdie eienskappe toe in humoristiese sprokies waarin stereotipes ontmasker en magsordes spelenderwys omgekeer word. Rykes is nie altyd gelukkig nie, prinse is nie altyd die redders nie, mans is nie altyd dapper nie en vroue is nie altyd die slagoffers nie. Trouens, die teendeel is waar – die vroue in hierdie verhale put krag uit hul eie diep bronne van wysheid, intuïsie, durf en kreatiwiteit.

"Die verhale is goed gebalanseerd, want dit is nie net deurspek met humor nie, maar ook gepeper met ’n goeie dosis sinisme. Die gevolg is ’n werklikheidsgetroue eindproduk. (...)

"Die skertsende manier waarop Fourie die klassieke verhale herskryf en Alzette Prins die illustrasies maak, is nie net vermaaklik nie, maar bied ook ’n kritiese blik op tradisionele sprokies. Ons kom agter dat onskuldige verhale waarmee kinders deur die eeue die nag ingestuur word, nie so onskuldig is as wat hulle lyk nie. Dieselfde kan van Stories met stertjies gesê word: die boek verskyn in mooi geïllustreerde kinderboekformaat, maar tussen die bladsye laat Fourie die poppe dans – op ’n nuwe maat."

Corlia se eerste kortverhaal, "Lewe met hoofletters", is in 1988 as een van die tien beste kortverhale aangewys in De Kat en Potpourri se kortverhaalwedstryd.

Haar eerste fiksie vir volwassenes is die kortverhaalbundel Liefde en geweld, wat in 1991 gepubliseer en in 1992 met die ATKV-prys vir gewilde prosa bekroon word. In hierdie verhale is die vrou in al haar fasette die hooffiguur. By die ontvangs van die prys sê Corlia: “Afrikaans moet sy kettings kan afruk. Hy moet oop word vir al sy sprekers. Hy moet ’n taal word waarin almal hulle kan uitdruk. Want pryse alléén gaan Afrikaans nie red nie” (Beeld, 31 Maart 1992).

Corlia voel dat ’n skrywer met kortverhale kan eksperimenteer, en dít geniet sy baie, vertel sy aan Kristie Herbst. "En jy het ook meer beheer daaroor – jy kan besluit waar ’n punt moet kom en niemand kan dit verander nie. Mense lees deesdae eerder kortverhale, want hulle het nie meer tyd vir lang romans nie.”

Oor die geweld waaroor sy skryf, is sy van mening dat dit nie net negatiewe geweld, sonder hoop, is nie. "My karakters oorleef dit meesal aan die einde. Dit handel ook oor die geweld binne mense. En tog is daar ook baie 'speel' in."

Die vrou as mens is vir Corlia baie belangrik. Sy verduidelik dit só aan Kristie Herbst (Rooi Rose, 4 Desember 1991): "Ek stel belang in die vrou se hele sosiale status. Daar word soveel aansprake op ’n vrou se lewe gemaak en dit veroorsaak baie stres – dalk nog meer as by mans! Sy is vasgevang tussen al haar rolle as vrou en ma en beroepsmens, en dit maak haar lewe ontsaglik ingewikkeld. Sy wil ook ’n mens uit eie reg wees, maar word nog dikwels as ’n versiering gesien. Sy kan so maklik ’n slagoffer word – veral as sy glo die liefde is al wat tel."

AP Grové het die bundel vir Beeld (10 Februarie 1992) bespreek: "Die geweld waarvan die titel praat, keer in verskillende gedaantes en in verskillende grade van intensiteit in hierdie bundel kortverhale terug. Daar is die growwe geweld (van oorlog, terrorisme, moord). Dan is daar ook die geweld van die huwelik. (...)

"Kortom, ons het hier situasies wat ons elke dag in die nuusmedia kan teëkom. In dié sin sou mens die bundel as aktueel kan bestempel. (...)

"En tog doen die meeste van die verhale nie werklik aktueel aan nie. Die geweld waarvan die verhale gewag maak, bestaan wel in die wêreld rondom ons, maar word nie altyd in die verhale beeldend tot ’n geloofwaardige en oortuigende realiteit herskep nie. Soms wil dit voorkom of die skryfster terugskrik voor die rouheid van die geweld; of sy dit nie in al sy gruwelikheid wil aandurf nie en die besonderhede liewer aan die verbeelding van die leser wil oorlaat. Teen so ’n gevoeligheid en subtiliteit kan daar natuurlik geen beswaar ingebring word nie, mits die suggestie van brutaliteit sterk genoeg is om die gruwelikheid van die geweld as geweld by die leser tuis te bring."

Vir Grové is hierdie begrip (geweld as geweld) wel te vind in verhale soos "Lewe met hoofletters", "Die oog wat alles sien", "Die vreemde seun" en in die beste verhaal in die bundel, "Tombani en Thoko".

Corlia se tweede bundel kortverhale, , word in 1994 gepubliseer.

Op Skrywers en boeke wat op die destydse Afrikaans Stereo (vandag RSG) uitgesaai is, sê Etienne Britz dat daar in verskeie temas behandel word wat op Suid-Afrika van toepassing is. Onderwerpe wat Fourie op sensitiewe wyse benader, is persoonlike en sosiale probleemsituasies wat veral op vroue en kinders van toepassing is.

Britz gaan voort: "Die ouderdom met sy aftakeling en magteloosheid wat die ouma tref, huwelikstwis tussen vader en moeder wat die kind uiteindelik die seerste maak, ’n lewe van prostitusie wat op ’n jong meisie afgedwing word omdat haar vader nie werk kan kry nie, die griewe en opwellings van die huisvrou wie se man blykbaar ’n vriendinnetjie het – dís die soort onderwerpe wat Corlia Fourie in toeganklike verhale van tipiese tydskriflengte aan die orde stel. (...)

"Ek het my by die lees van die bundel soms afgevra wie die bedoelde of ideale leser van die boek as geheel is, want die verhale wissel van fantasieryke, byna soet stories wat ’n mens vir ’n kind sou kon voorlees, tot verhale waarin volwasse probleme en seksuele ervarings in betreklik eksplisiete besonderhede behandel word. Corlia Fourie berg eintlik twee skrywerspersoonlikhede in haar: enersyds die liefdevolle, moederlike, selfs konserwatiewe kindervriend, en andersyds die vrou wat haarself probeer laat geld, wat in gevaarlike waters wil vaar. Soos gesê, is dít die probleem met hierdie boek, ook vir sover ’n mens jou ’n ideale leser probeer voorstel. (...)

"Die verhale is maklik en aangenaam om te lees, met heelwat afwisseling van styl en vertelwyse. Corlia Fourie het ’n geoefende aanslag, haar verhale is byna modelmateriaal vir ’n skryfskool. Dis sogenaamde 'goeie gewilde prosa', ’n gesogte kwaliteit wat egter nie sonder meer met buitengewoon hoë literêre waarde gelykgestel moet word nie."

Om haar veelsydigheid verder te onderskryf: Corlia ontpop ook as samesteller en in 1992 verskyn ’n bundel kortverhale deur vroueskrywers, Vrou : mens. Vir hierdie bundel het sy letterlik alle skryfsters wat sy teëgekom het, gevra of hulle nie ’n storie in die laai het wat sy kan gebruik nie.

In 2003, met haar pa Mikro se herdenking van sy 100ste verjaardag, stel sy ’n keur saam uit sy werk getiteld Want die lewe is so goed: keur uit die werk van Mikro. In 2008 stel sy ’n bundel saam met die titel Ware liefde: bekende Suid-Afrikaanse paartjies, waarin die liefdesverhale van Suid-Afrikaners vertel word: Jan en Isie Smuts, Theunis en Tibbie Steyn, Beyers en Ilse Naudé, Eugène Marais en Lettie Beyers, en Philip Boyd en Phyllis Spira, om maar net ’n paar te noem. Hierdie versameling is ook in Engels gepubliseer onder die titel Romances to remember: South Africans in love.

In 1996 verskyn Corlia se eerste volwasse roman, Die oop deur, wat ook oor die radio voorgelees is.

Die oop deur het Kaapstad as agtergrond en dit speel af vanaf vroeg-1966 tot Oujaarsaand van dieselfde jaar. Volgens JP Smuts (Insig, November 1966) was 1966 nogal in meer as een opsig ’n belangrike jaar in Suid-Afrika se veelbewoë geskiedenis: die eerste Republiekfees is gevier; daar is reeds begin om Distrik Ses met ontruiming te bedreig; by die stembusse het die Nasionale Party ’n baie groot oorwinning behaal; dr Verwoerd, eerste minister, is in die parlement doodgemaak en BJ Vorster was sy opvolger. Apartheid het hoogty gevier, maar daar was tog twyfel onder die jonger geslag oor die etiese sy van hierdie beleid.

Twee niggies, Julie en Suzette, begin hulle loopbane in die joernalistiek. Albei se agtergrond is behoudend, veral dié van Suzette, wat in die Karoo op ’n plaas grootgeword het. Hulle is dan ook die sentrale karakters en, skryf Smuts: "Die personasies en plasing is goed gekies om bogenoemde aspekte te reflekteer: die hoofkarakters is jong verslaggewers by ’n Kaapse Afrikaanse koerant wat die regeringsbeleid ondersteun, en die ander figure skakel almal op die een of ander wyse by hierdie groep in. (...)

"Soos in van Corlia Fourie se ander werke kry jy ook hier ’n bewus wees van politieke aktualiteit en die neerslag wat die Suid-Afrikaanse situasie van die apartheidsjare op die gewone mens, veral vroue, gehad het. Die roman word dus deel van ’n groeiende groep verhale in die Afrikaanse letterkunde van die afgelope paar jaar wat krities, maar nie sonder ’n mate van pyn, skuld en nostalgie nie, terugkyk op ’n verbygegane periode in die redelik resente geskiedenis van Suid-Afrika. (...)

"Soos verwag kan word in ’n werk van hierdie aard, het die verhaal ’n sterk dokumentêre inslag. Die personasies is wel fiktief, maar deur aanhalings uit Die Burger en toesprake van dr Verwoerd asook aanhalings uit trefferliedjies van dié tyd, word die leser deurgaans – en dikwels ook pynlik – bewus gehou van die sosiaal-politieke werklikheid van die 1960's. (...)

"Die oop deur noem Corlia Fourie haar roman, en dié titelmotief word meer as een keer in die loop van die verhaal na vore gebring. Daarmee saam gaan die muur, daardie onverbiddelike grens wat jou inperk en afskei. Hierdie gegewe word deur die hoofstuktitel 'Deure' aangekondig, en daarna in latere hoofstukke uitgebou."

Vir Smuts is daar egter ook kere wat die skrywer die simboliek van die oop deur oorverklaar, wat herhaal word in die "programmatiese hoofstuktitels".

"En daarmee saam is ’n verdere aanduiding gegee van die aard van hierdie roman. Dit is, soos Fourie se ander werk, goed en vlot geskryf en toon dikwels ’n fyn aanvoeling vir situasies en ook vir woorde. (...) Daar is egter ook soms cliché-beskrywings, maar dit is gelukkig eerder die uitsondering as die reël.

"Die oop deur is nie op dieselfde vlak as die romans van Elsa Joubert en John Miles nie, maar dit is nietemin ’n welkom toevoeging tot die groep werke waarin die sosiale problematiek wat die vorige beleid geskep het, tot tema gemaak word. Dié toeganklike verhaal behoort wyd byval te vind."

Alle paaie lei deur Die Strand word in 2008 gepubliseer. Elke hoofstuk van hierdie verhaal is eintlik ’n kortverhaal wat selfstandig kan staan – sommige hoofstukke is voorheen as kortverhale gepubliseer. Die roman word tot ’n eenheid saamgesnoer deur die see, in besonderheid die see by die Strand. Corlia erken dat die agtergrond van die boek outobiografies is en dat haar grootwordjare in die Strand, Somerset-Wes en Kuilsrivier die gemene deler is.

“Alle Afrikaners het ’n plaasstorie, daarom is plaasstories nou so sterk op die oomblik. Ek het dit nooit gehad nie. Hierdie is my onthou-storie. Die boek bring die onthou van hoe lekker dinge toe was, uit by dinge wat almal mee te doen het, soos hartseer en grootword," vertel sy aan Marisa Beeton in Rapport (1 Mei 2008).

Die boek het byna per ongeluk gebeur. As Rooi Rose se verhaleredakteur skryf Corlia kortverhale wat sy in haar laai laat lê. Later besef sy dat daar 'n sentrale tema van grootword agter al die stories is en dat daar ’n sentrale tema van iemand wat grootword agter al die stories is. Sy het die stories volgens die datum waarop sy dit geskryf het, gerangskik en so is Alle paaie lei deur Die Strand gebore.

Alle paaie lei deur die Strand is ’n boek wat teruggaan na die verlede. Dit skets Stella se grootwordjare in die Strand toe dit nog die Strand was. Stella en haar sussie, Jeanette, het elke jaar saam met hulle ma en pa die somervakansie by hulle ouma in die Strand deurgebring.

Soos Stella ouer word, word die verskillende fasette van haar ontwikkeling met ontroering vertel. "Deur haar oë beleef die leser die soet en sout van Stella se grootworddae, die rol wat haar oumas, pa, sussie en maats, maar veral haar ma, daarin gespeel het. Dis 'n eerlike vertelling wat aandui hoe die stem van die kinderjare bly naklink in ’n mens se lewe” (Rapport, 1 Mei 2008).

In Alle paaie lei deur Die Strand is die verwikkelde verhouding tussen ma en dogter, soos in van Fourie se ander werke, weer een van die belangrikste dryfvere, skryf Annemarié van Niekerk in Rapport (29 Junie 2008).

"Die novelle is opgebou uit selfstandige eenhede wat ineenskakel rondom die ontwikkeling van die hoofkarakter, Stella Burger, van jong kind tot ouer volwasse vrou. Haar karakter groei aan die hand van betekenisvolle verhoudings, soos dié met haar Ouma Strand, haar pa, haar vriende, haar jonger suster en veral haar ma.

"Elkeen van die eenhede word gekoördineer met ’n lewensfase en toon hoe hierdie verhoudings telkens op ’n ander en geleidelik meer onthullende manier manifesteer. Dít wat aanvanklik vir die jong kind nog net vae, terloopse gewaarwordinge is (veral die gewaarwording dat sy nie haar ma se gunsteling is nie) beweeg hoe ouer sy word ál nader aan die oppervlak van haar bestaan.

"Uiteindelik is Stella in staat om haarself en later ook haar ma met hul wrang verhouding te konfronteer. Die ma se verstommende reaksie is iets waarmee Stella verder moet leer leef. (...)

"Stella se verhaal is ontroerend, maar onsentimenteel. Die verteller is nugter, realisties en vermy ’n toon van selfbejammering – ’n slaggat waarin ’n ek-verteller met ’n hartseer verhaal maklik kan trap. Die verteller kry dit reg deur humor te benut en ook die ruimte van Die Strand as ’n tipe paradys voor te stel. (...)

"Dié boek van Fourie raak ’n senupunt in die leser aan, maar terselfdertyd lees dit lekker en maklik én is dit ’n nostalgiese terugkyk op die populêre kultuur van die 1950's en 1960's."

In Volksblad van 26 Mei 2008 is dit Stoffel Cilliers se mening dat Corlia Fourie se vakmanskap as skrywer duidelik te sien is in die afgerondheid van die hoofstukke, waarin die ontwikkeling van die karakters, nuwe agtergronde, ryper kerngedagtes en ander invloede op karakters telkens uitgebeeld word.

Hy beskryf die roman as volg: "Dit is ’n lesenswaardige, fyn geskrewe roman hierdie waarin teenstellende emosies oortuigend uitgebeeld word."

In 1999 vertel sy op die ATKV se jaarlikse Skryfskool vir kursusgangers wat van ’n kortverhaal verwag word en in 2002 word sy genooi om ontluikende skrywers touwys te maak tydens die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse slypskool. Gedurende Junie 2008 neem sy ook deel aan die skryfkursus van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria.

Corlia se jongste kinderboek, Heleen en die heks met hoofpyn, het pas verskyn en dit bevestig net weer die onweerlegbare feit dat van alles wat sy doen, sy die meeste hou van kinderboeke skryf: “Dis soos om te speel … en ek hou van speel.”

In 2011 word Corlia se derde roman, Die geheime kamer, gepubliseer. Dit is ’n sielkundige riller met Sandra du Toit, ’n joernalis wat deur Gert Cloete ontvoer word. Hy hou haar in ’n geheime kamer in ’n huis by die see aan. Cloete is vreemd – hy obsesseer oor die Mona Lisa en die Maagd Maria en luister na klassieke musiek. Sy huis is hiperskoon en netjies. Sy motief agter die ontvoering is dat hy glo hy is in die posisie om die bose wêreld te verander met die offerdood van die "maagdelike godin" (Sandra du Toit) op die eerste dag van die lente.

Op Goodreads skryf Madri [Victor] dat Die geheime kamer haar vasgenael gehou het, van die begin tot die einde, alhoewel daar nie veel aksie is nie. "Dit is 'n sielkundige spel tussen die ontvoerder en die meisie wat hy in 'n spierwit, kliniese kamer aanhou. Regtig goed geskryf!"

Alta Cloete stem saam: "’n Mens raak beslis bang as jy hierdie storie lees. En geleidelik al hoe banger, want jy weet iets vreesliks moet êrens gebeur. Jy het egter nie die vaagste idee wát presies nie, want die ontvoerder is dan so beskaafd. En hy dra vir haar lekker kos aan en praat sag en mooi met haar …

 "Die een negatiewe resensie wat ek gelees het, het dit basies daaroor dat die ontvoerde meisie nie genoeg vrees vir die ontvoerder (nogal ’n Cloete!) toon nie. Persoonlik dink ek egter dit was juis die idee. Sy is ’n sterk vrou en sy het besef blote vrees gaan haar niks in die sak bring nie, sy sal moet kyk of sy hom kan peil en ’n manier kan vind om hom te uitoorlê. Op die agterblad word dit duidelik aangetoon dat dit gaan om die sielkundige stryd tussen die twee karakters. As sy bloot in ’n bondel onbeheersde vrees verander het, was daar nie eintlik veel van ’n storie nie. Of sy wen? Nee, ek gaan jou nie sê nie. Lees maar self."

In Corlia se volgende roman, Tussen heinings, wat in 2015 uitgegee is, gaan dit oor die voorstedelike lewens waar mense agter hoë heinings of mure woon as gevolg van hul vrees vir misdaad. Maar dit gaan ook oor ander heinings – die skanse waaragter enkelinge leef, ook as gevolg van vrees om mense te na aan hulle te laat kom.

Die agtergrond vir hierdie roman is Johannesburg. Die hoofkarakters is Elize, wat na haar egskeiding weer as joernalis by ’n tydskrif gaan werk; haar tienerdogter Michelle wat deur die egskeiding moet werk; Sarita, ’n ietwat oorgewig kortverhaalredakteur by ’n tydskrif en wat graag self sou wou skryf; Tom, Elize se afgetrede buurman wie se vrou oorlede is; en Welcome, ’n Zimbabwiër wat onwettig agter in Tom se werf woon.

In Vrouekeur (22 Januarie 2016) skryf Willie Burger dat Fourie baie goed daarin slaag om die karakters se vrees vir misdaad wat maar altyd in hulle agterkoppe is, "as bron van spanning in die roman uit te buit. Die leser verwag dat ellende een van die karakters gaan tref, dat iemand die slagoffer van misdaad gaan word. Die effek van hierdie durende onderliggende vrees op almal word duidelik – ook op die leser. (...)

"Die roman bied ’n interessante kykie op die tydskrifwêreld – ’n wêreld waarvan Fourie, met haar jare lange ervaring as joernalis, intieme kennis het. Die stryd tussen ’n idealisme om 'gehalteleesstof' te bied wat sosiaal en polities relevant en intellektueel stimulerend is aan die een kant en ’n anti-intellektualisme en voorkeur vir sensasie en ontsnapping aan die ander kant, saam met die uitgelewerdheid aan die diktatuur van die mark, kom ook ter sprake.

"Tussen heinings sou maklik afgemaak kon word as die blote uitbeelding van die voorstedelike, Afrikaanse mense se vrese (ten spyte van ietwat lomp pogings om ook iets van die wêreld van huiswerkers en ’n hoopvolle Zimbabwiese immigrant te bied), maar anders as baie ander romans, is hier nie sprake van ’n nostalgiese verlange na ’n vorige tydperk nie. Nog belangriker: Fourie bied ook nie ’n moraliserende stem nie, geen beterweterige aanduiding van hoe dit alles behoort te wees nie, geen optimistiese geloof in verandering nie. Die enigste hoop in hierdie land, in hierdie wêreld, is op die alledaagse, klein oomblikkies van intimiteit, van vertroue tussen mense."

Op LitNet sluit Elbie Adendorff haar bespreking van Tussen heinings as volg af: "Dit is ’n lekkerlees-boek. Enkele punte van kritiek kan tog teen die roman genoem word, soos die vinnige laaste paar bladsye wat dit laat voel of die roman stoom verloor teen die einde se kant toe en die 'gelukkige einde' en 'mooi slot' wat tipies in romantiese verhale voorkom, asook die enkele geforseerdhede in die taal en die eensydige uitbeelding van die stedelike lewe as boos en sleg. Ten spyte hiervan is dié ’n roman wat lesers gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van vroue tussen heinings nie, maar verwoord veral die verhaal van oorlewing en aanpassing tussen hierdie heinings. Dit bied ten slotte ’n blik op ’n wêreld waarvan ons daagliks in die koerante lees en op televisienuus; een wat ons moontlik ook self al beleef het."

In 2018 onderstreep Corlia Fourie weer eens haar veelsydigheid as skrywer toe sy haar debuut as digter maak met die bundel Die goeie vrou en ander mites wat by Protea Boekhuis verskyn.

In ’n onderhoud met AJ Opperman (Beeld, 19 September 2018) vertel Corlia dat die bundel deels ’n studie is van besonderse vroue, maar dit gaan nie net oor bekende vroue in die geskiedenis nie, dit kyk ook na aktuele kwessies soos mishandeling.

"Die bundel spruit onder meer uit my belangstelling in vroue en hul posisie op politieke sowel as maatskaplike gebied. My belangstelling in die geskiedenis en my ervaring as joernalis het ook tot die bundel bygedra."

Corlia erken teenoor Opperman dat sy haarself nie eintlik as ’n digter sien nie: "Dit was vir my meer soos ’n eksperiment of ’n spel."

Dit het tien jaar vroeër begin toe sy in Johannesburg se Botaniese Tuin gaan stap het en met haar terugkeer by die huis was daar ineens ’n gedig in haar kop. Sy het dit neergeskryf, maar nooit gedink dat daar iets van sou kom nie, want wat maak ’n mens nou met een gedig.

Met verloop van tyd het ander gedagtes na vore gekom en só het die gedagte aan ’n bundel begin werklikheid word. "Ek sal aanhou gedigte skryf, mits ’n gedagte my beetpak, maar ek is steeds nie iemand wat ’n bestaan maak deur te dig nie."

Gisela Ullyatt bespreek Die goeie vrou en ander mites op Versindaba, en in haar resensie maak sy melding van ’n "gros mankemente" in die bundel wat sy onder vier opskrifte indeel:

  • "Enumerasie: Alhoewel enumerasie op sigself tot voordeel van ’n bundel kan strek (soos byvoorbeeld Walt Whitman se Leaves of Grass) of ’n individuele gedig soos Allen Ginsberg se Howl, kan dit geweldig eenselwig raak as die digter die verstegniek oorbenut.
  • "Gebrek aan beelding: Beelding is een van die hoof-karaktertrekke wat poësie van prosa onderskei. Sommige digters se styl sluit meer beelding in as ander. (...) In Fourie se geval berus haar debuut meer op joernalistieke navorsing en styl (meestal skryf sy bondig) en vertel (in plaas van dig) meeste van die gedigte opsommend. In sommige gevalle help dit wel die leser wanneer ’n agtergrond of twee verskaf word, maar ander kere toets dit die leser se geduld omdat dit op sigself niks nuut verskaf nie en nie noodwendig poësie is nie. 
  • "Onaf eindes/eindreëls: Die eindreël of -strofe kan ’n gedig maak of breek. ’n Voorbeeld waar Fourie ’n pragtige slot bewerkstellig het, is in die program-gedig, “Die goeie vrou” (7): “die onweer/ tegemoet geloop” en “Kinders op pad” (47). ’n Voorbeeld waarvan die slot minder geslaagd is, is “4711”, ‘n gedig wat oor ’n ouma, genaamd Ouma Strand, handel. Die beskrywing van die ouma se lewe is paslik regdeur die gedig, maar die einde lui joernalisties en opsommend van wat reeds in die gedig vertel is. Die wending moes iets nuuts of onverwags aan die leser gebring het. Selfs romanlesers wil nie ’n opsomming van die roman as slot hê nie, maar ’n dénouement.
  • "Clichés en sentimentaliteit: Omdat Fourie so ’n skerpsinnige joernalis, prosaskrywer en veral dan ’n redakteur is, is dit verbasend dat haar poësie nié van clichés en sentimentaliteit gestroop is nie. ’n Hebbelikheid wat hiermee verband hou is outydse taalgebruik of onaf neologismes wat uiteindelik as leesversperrings dien."

Ullyatt sluit af: "Die gevoel wat by hierdie leser gewek is, is dat Fourie nog nie tuis genoeg voel om in die poësie-genre te skryf nie."

In Die Burger van 29 Oktober 2018 sluit Marius Crous by Ullyatt se siening van Die goeie vrou aan en hy eindig so: "As storieverteller en dramaturg het Corlia Fourie vir ons en haar kinders haar 'storiesak as doepa teen die kou' gegee. As digter nie."

Op LitNet skryf Karen de Wet dat Fourie met hierdie digbundel nou in al die tradisionele genres gepubliseer het en dat dit titel in die patroon van baie van haar ander publikasies val, soos Moeders en dogters, Die meisie wat soos ’n bottervoël sing en die versamelbundel Vrou : mens.

De Wet gaan voort: "Die titel van die digbundel word bewustelik beklemtoon deurdat dit ook die titel van die eerste afdeling is en dat die titelgedig nie net die eerste gedig in die bundel is nie, maar ook op die agterste skutblad gedruk is.

“Hierdie vooropstelling van ‘die goeie vrou’ en dat sy ʼn mite is, deel van die ‘ander mites’ wat die titel in die vooruitsig stel, werk beslis bepaalde leesverwagtings in die hand – byvoorbeeld dat die ontmaskering van mites, en spesifiek waar dit vroue aangaan, botoon in die bundel gaan voer. (...)

"Maar 'n leesverwagting wat (op grond van die titel en die titelgedig) daarop reken dat die bundel die klem daarop gaan laat val om mites omtrent vroue aan die kaak te stel, word deur die loop van die bundel enigsins teleurgestel. Vroue en hul lewens en belewinge is inderdaad die belangrikste tematiese gegewe in die boek, maar dit is opvallend dat in die eerste afdeling se gedigte oor merkwaardige vroue en hulle tragiese of triomfantelike lewens, die minimum inligting gegee word oor hierdie vroue of oor mites, of selfs stereotipes rondom (hierdie) vroue. Die gedigte gaan meestal oor tipiese sake of kenmerke van die spesifieke vrou oor wie die gedig handel en met wie die leser reeds vertroud is. Wie ‘mites’ wat met betrekking tot vroue in stand gehou is, wil eien en ontmasker, moet self en interpreterend hierna op soek gaan.

“Kan dit wees dat dit die keuse van genre is wat Fourie in hierdie bundel terughou? Die tema is dit nie. Die manier waarop die temas en stof in en deur die poësie ontgin en aangebied word, dalk wel. Of skryf sy bewustelik verse wat hoofsaaklik fokus op mededeling – en dikwels bykans nie-emosioneel? Dit is hoe die uitgewers die bundel in hulle inligtingstuk aanbied, naamlik dat dit ‘verse met ʼn anekdotiese inslag’ is. Die indruk wat die gedigte laat, kan inderdaad ondervang word deur ʼn eerste beskrywing van die anekdote, naamlik dat dit ‘kort ... interessante vertelling(s)’ is wat ‘gewoonlik om 'n bekende historiese figuur ... geweef’ word (A le Roux in Literêre terme en teorieë, 2017). As die anekdotiese as uitgangspunt geneem was, kon die bundel daarby gebaat het. Ook die uitgewer se aanspraak dat die bundel oorwegend ‘satiriese verse’ bevat, stel enigsins teleur. Waar ter sake word die satiriese in hierdie gedigte onderspeel – satire met die byt van ʼn Toerien of ʼn Walters is dit nie. 

De Wet sluit af: "Afgesien van die gedigte oor vroue, bevat Die goeie vrou ook ʼn gedig of wat oor tuine (30), die natuur (33–5) en reise (43–5), maar dit is die eerste drie gedigte in die afdeling ‘Bloeityd’, wat na my lees, die sensitiefste (want die eerlikste?) geskryf is. Dit sluit aan by die outobiografiese stroom wat deur die bundel vloei en wat uitmond in gedigte oor die afstand tussen 'n vrou en haar ekspat-dogters.

“Die ars poetica wat die bundel onderlê, word verwoord in ‘Spoelklip’ (49). In hierdie bundel verkies hierdie digter om nie klip te breek nie, maar om self glad gemaak te word:

 ... as kunstenaar
wil ek net wees:
'n gladde klippie
in ʼn suiwer stroom.
Nie die stowwerige
splint van ʼn steen.”

 

Publikasies

 

Publikasie

Slepie, die dapper sleepbootjie

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624013685 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Marianne en die leeu in die pophuis

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798114258 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moeders en dogters

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798117923 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Amstel Meriete-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Leuens

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118989 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die volstruisie wat graag wou vlieg

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119640 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Eervolle vermelding vir Noma-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

En die son skyn in Suid-Afrika

Publikasiedatum

1986

ISBN

079811861X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Hough, Barrie: Só moet ’n dramateks lyk!

 

Publikasie

Die meisie wat soos ’n bottervoël sing

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798126787 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • Tienie Holloway-medalje 1991
  • MER-prys 1991

Vertalings

Engels vertaal deur Cicely van Straten 1990

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Le Roux, Marina: Corlia Fourie sing soos ’n bottervoël
  • Rooikappie nou slimmer
  • Stolz, Danie: Kleuter sal dié verhale baie geniet
  • Verskeidenheid vir jonges

 

Publikasie

Jakkalsstreke: Afrikastories wat draaie gooi

Publikasiedatum

1991

ISBN

079812878X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • De Bruin, Philip: Jakkals se slinksheid bloot manier van oorlewing

 

Publikasie

Liefde en geweld

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624030369 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

ATKV-prys vir gewilde prosa 1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Grové, AP: Oor geweld in sy vele gedaante
  • Scheepers, Riana: Wolf, Wolf hoe laat is dit?

 

Publikasie

Ganekwane en die groen draak en ander nuwe Afrika-sprokies

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129603 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Madeleine van Biljon 1992 (ook gepubliseer in Amerika)

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Erasmus, Elfra: Eerste Afrikaanse Afrika-sprokies
  • Roux, Madeleine: Heldinnetjies werk ánders met drake

 

Publikasie

Die wit vlinder

Publikasiedatum

1993

ISBN

0624029301 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur 1995 (saam met Die towersak)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

·         Le Roux, Marina: Corlia Fourie skryf sprokies in die klassieke tradisie

·         Theron, Leentjie: Mens kan Afrika voel en ruik

 

Publikasie

Die deurmekaardier

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798130237 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Rossouw, Ronelle: Heerlike pretboekies vir die jong lesertjies
  • Roux, Madeleine: Malkopvermaak is pure treffers

 

Publikasie

Die towersak en ander stories

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132191 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

  • MER-prys 1995
  • Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur 1995 (saam met Die wit vlinder)

Vertalings

Engels 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Le Roux, Marina: Afrika-sprokies wat tref
  • Theron, Leentjie: Afrika-sprokies vir slaaptyd

 

Publikasie

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132493 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Botma, Riëtte: Kleurryke karakterparade
  • Gouws, Tom: "Nuwe vrou" gaan bly

 

Publikasie

Die oop deur

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136243 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Van Manen, Mariette: Verhaal steek nie drumpel oor
  • Venter, LS: Dié romandebuut stel teleur

 

Publikasie

Hoekom-stories

Publikasiedatum

1996

ISBN

0627021611 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Snyman, Maritha: Die avonture van die Arnosterfant en hoekom ratel taai is

 

Publikasie

Nolito en die wonderwater

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798136707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Grütter, Wilhelm: Kort begrip
  • Le Roux, Marina: Dié bundel sprokies is soos soet wonderwater
  • Van der Walt, Thomas: "Nolito" praat op talle vlakke ...

 

Publikasie

Stories met stertjies

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781869191412 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Kempen, Willem: Dwarstrekstories tot vir ouer insiggewend
  • Nieuwoudt, Stephanie: Geen soet heldinne in Fourie se sprokies
  • Van Niekerk, Annemarié: Kyk net wie se skoene staan buite die prins se slaapkamer

 

Publikasie

Alle paaie lei deur Die Strand

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799341782 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Beeton, Marisa: Mense hou van Corlia se stories
  • Harper, Susanne: Strandpad lei van meisie tot volwassene

 

Publikasie

Heleen en die heks met die hoofpyn

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781869191979

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die geheime kamer

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799352085 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tussen heinings

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780624074762 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die goeie vrou en ander mites

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781485309567 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Corlia Fourie as samesteller


Artikels oor Corlia Fourie beskikbaar op die internet

 

Artikels deur Corlia Fourie beskikbaar op die internet

Bygewerk: 2019-10-04

Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

The post Corlia Fourie (1944– ) appeared first on LitNet.

Engemi Ferreira (1943–2019)

$
0
0

Sêgoed van Engemi Ferreira

Wat bekoor, betower, boei, sjarmeer haar die meeste? “Musiek. Altyd musiek. Kleintyd wou ek altyd graag ’n harp hê.” (Aan Fanus Rautenbach, Rooi Rose, 4 Oktober 1995)

Hoe word sy geïnspireer? “Ek dink die gewone dinge wat met ongewone mense gebeur. Of ongewone dinge wat met gewone mense gebeur. Ek lees graag biografieë. My kinders inspireer my.” (Rooi Rose, 4 Oktober 1995)

Oor die mense wat haar beïnvloed het: “Die ryk stem van Elize Lindes (wat later Elize Botha geword het) en wat ek as juffrou Elize leer ken het, het my as tien jaar oue meisietjie al betower. Ook omdat sy my nie soos ’n kind behandel het nie. En verstaan het van die ding wat soos ’n vuur in my gebrand het: Die Woord – die Letterkundige Woord. Dit was vir my poetic justice (’n toegif-tekkie?) toe my uitgewer, sonder dat ek dit weet, Elize Botha vra om die flapteks vir my debuutroman te skryf – nog ’n sirkel voltooi.” (Rooi Rose, 4 Oktober 1995)

“I always found it enormously fulfilling to inspire people to discover their own truths and during the last sixteen years I have been using creative processes with words and sound, whether rhythmical or musical, as well as movement – in dance and gesture – to the background of every participator’s intrinsic biography. It is not only a fun process, but also intrinsically healing.” (http://www.temenos.org.za/blog/introducing-engemi-ferreira-participating-in-our-festival)

“I have been writing as long as I can remember, I love words in any way and know how to use them. I also love life and death, and everything in between, stones and stars and dunes and tunes.” (http://whoswho.co.za/engemi-ferreira-67294)

Engemi Ferreira is op 10 Oktober 2019 oorlede. Hieronder is haar ATKV-skrywersalbum, wat op 27 Augustus 2014 volledig bygewerk is.

Gebore en getoë

Engemi Ferreira is op 19 Maart 1943 in Bloemfontein gebore as die jongste van drie susters. Sy vertel aan Fanus Rautenbach (Rooi Rose, 4 Oktober 1995) dat haar lewe baie gewoon begin het in Bloemfontein, maar soos dit gaan, “daardie plek waar jy jou eerste skree gee, vloed op jou in vir die res van jou lewe. My drie susters is nou nog kwaad vir my, want ek is gebore op hulle atletiekdag. Al die aandag was op die baba – ek het ver gewen.”

Nie lank na haar geboorte nie is haar ouers na Suidwes-Afrika (nou Namibië), waar sy haar grootwordjare deurgebring het. Haar twee oudste susters se mans het albei in Nederland studeer en op 10-jarige ouderdom is Engemi vir ’n jaar na hulle toe. Dáár het sy gereeld tussen Amsterdam en Utrecht gereis en sy meen dat dit is waar haar liefde vir reis sy ontstaan gehad het.

Nadat sy na Suid-Afrika teruggekom het, is sy na Pretoria, waar sy in 1960 op 16-jarige ouderdom aan die Hoërskool Langenhoven matrikuleer.

Haar eerste gedigte het in Tydskrif vir Letterkunde verskyn toe sy nog maar in standerd 9 (graad 11) was. Dit was ook die jaar waarin sy sanglesse by Albrecht Lewald begin neem het. Haar joernalistieke en skryfliefde kom ook toe na vore toe sy sonder aansporing van enigiemand anders ’n skoolkoerant van stapel stuur en al die rolle – redakteur, verslaggewer en verspreider – vervul.

Musiek was nog altyd deel van haar lewe. “Toe ek nie ’n harp kry nie, wou ek sing. Soos Elizabeth Schwarzkopf,” vertel sy aan Rautenbach. “Een keer het Cecilia Wessels by ons tuisgegaan op Marienthal (in Suidwes). Sy het in die badkamer gestaan en gesing terwyl sy haar tande borsel. Wonderskoon. Tot vandag toe sing ek ook as ek my tande borsel – dis dié dat ek sulke simpel tande het.”

Oor ander dinge wat Engemi aantrek, vertel sy aan Rautenbach dat mans haar nog altyd gefassineer het, “seker oor ek self net drie ouer sussies hadde en nooit verstaan het hoe werk ’n man se kop nie. My pa was ’n stil, teruggetrokke mens en boonop was my ma nie juis iemand wat vriendskappe tussen haar dogters en mans aangemoedig het nie; alles natuurlik teelaarde vir ’n gesonde obsessie.”

Sy het teenoor Fanus Rautenbach gebieg dat sy mal verlief geraak toe sy ongeveer agt jaar oud was, op Jasper Naudé. “Oe, vir hom sou ek die honderd treë wen, sommer so. Maar sy suster Liena was ouer, en wyser, en wou boetie beskerm teen opdringerige verliefde meisietjies met bybedoelings. Sy het my verseker ek sal met my kaal pooie nie ’n duik maak in die naelloop nie. Ek het ook nie. Toe sy en ’n maatjie na die wedloop vir my giggel, beloof ek deur my trane ‘Wag net tot ek my tekkies gekry het’.”

Maar dit was nie lank nie, of Jasper is vergete en in sy plek het mnr Brönn gekom, die standerd 2-meneer, en Engemi was sy witbroodjie. “’n Mooie man. Dis al so lank gelede, maar ek dink aan bruin hare, blou oë, lang vingers. Ek moes die klas se boeke oortrek, oor ek dit so netjies kon doen – en toe ek gisteraand na 43 jaar die miljoenste boek oortrek vir Joshua [haar seun], toe sê ek vir my man: nee, ek is nou klaar, van nou af kan hulle dit self doen, en dit sluit Wieland in, wat eers komste jaar groot skool toe gaan.

“Ek was ook mnr Brönn se stuurder. Oral, ook briewe gepos. Hy het gereeld aan Mej Iemand geskryf. Ek is jaloers en hierdie engel se groen duiwel stoom die brief oop. Ek lees en grens en storm poskantoor toe en skryf mnr Brönn af, maar mnr Brönn is nie klaar met my nie.

“Sy Mejuffrou skryf vir hom en sê van die oopgestoomde brief. Hy sê vir my ma en sy foeter my. Van toe af haat ek onderwysers. Ook my sub A-juffrou Van Rijn. Een keer toe sy uit is, klouter ek op die tafel en sing. Sy kom terug en gil: ‘Wat dink jy doen jy?’

“‘Ek thing,’ lispel ek haasbek. ‘Ga!’ ga sy en vat my na die prinsipaal toe. Hy tel my djiem op en slat my, vyf of ses of agthonderd houe. Nog ’n tekkie wat ek nooit gekry het nie, want hoewel my sangmeester, Albrecht Lewald, my oor en oor geprys het dat ek ’n stem het wat ’n klip se hart sal roer … het my stem … elke keer daarna wat ek op ’n verhoog gestaan het om te sing … het my keel toegetrek.

“Ná mnr Brönn is ek Holland toe vir ’n jaar. My ma kon nie meer met my huishou nie. Op ’n manier was Holland seker vir my ook nog ’n tekkie.”

Terwyl Engemi saam met haar ouers op Marienthal gewoon het, het ’n Ovambo haar leer lees nog voordat sy skool toe begin gaan het, vertel sy aan Rautenbach in Rooi Rose: “Van ‘Die jakaras en die orretjie’, overgezet: Die jakkals en die otjie! Dit was daar waar die roeringe van self stories vertel begin het, want ek het dit my eie gemaak. In Holland, toe ek tien was, het my swaer my Gulliver’s reizen present gegee, en ek het besef ’n mens kan enige ding op aarde skryf, mits jy ’n storie het om te vertel en dit kan inklee met jou verbeelding.

“Elke keer wat ek nie ’n opdrag van my ma uitgevoer het nie en slae gekry het as ek nie die waarheid vertel het nie, het ek geleer: volgende keer vertel haar alles wat sy wil hoor. Was die onderwysers nie tevrede met my verskonings as ek nie my huiswerk gedoen het nie, dan dink ek ’n ‘ware verhaal’ uit wat hulle dadelik tevrede stel.”

Verdere werk en studie

Ná skool studeer Engemi drama onder leiding van Anna Neethling-Pohl, Truida Pohl en Francois Swart aan die Universiteit van Pretoria. Hier kan sy haar liefde vir die toneel en teater wat al van kinderjare by haar gevestig is, verder verstewig. Sy onderleg haar ook in onder andere beeldhou- en skilderkuns aan die Pretoria Technikon. Haar kunssinnige veelsydigheid word verder onderstreep toe sy haar as liriese sopraan vestig met die klem op Lieder. Benewens drama neem sy ook moderne tale, filosofie en sielkunde aan Tukkies.

Sy was ook een van die stigterslede van die Max Stibbe Waldorfskool in Pretoria in samewerking met Mario en Margaret Schliess, waar sy ook vir ’n ruk onderwys gegee het. Engemi skeep nie haar joernalistieke werk in hierdie tyd af nie en werk vryskut, wat meebring dat sy later redakteur word van die Carletonville Herald se vroueafdeling.

Engemi is getroud met Johan, wat ’n “boomboer is. ’n Houtkapper, maar ook ’n houttowenaar”. Hulle het op ’n stadium op ’n plaas in die Houtboschloopvallei in Mpumalanga gewoon. Hulle het sewe kinders. Een van die seuns, Benedikt, het later as Benedikt Sebastian naam gemaak as model, akteur en sanger.

Gedurende die jare in die Laeveld het Engemi haar besig gehou met ’n verskeidenheid van bedrywighede, soos kurator van die plaaslike kunsforum tesame met Leigh Voigt. Hulle was onder andere verantwoordelik vir die aankoop van skilderye vir die dorp.

Sy het ’n koerantjie, Die Boekbrief, begin, wat sy op eie inisiatief na leeskringe in die hele land gestuur het sodat hulle inligting oor nuwe Afrikaanse publikasies kon bekom. Dit het ’n ernstige leemte veral op die platteland gevul. Sy het lesers ook bygestaan om boeke en bandjies in die hande te kry wat nie plaaslik te verkry was nie.

Haar debuutwerk, Die jaar toe my ma begin sing het, word in 1988 gepubliseer nadat sy in 1984 die eerste Skryfskool in Kreatiewe Kuns aan die Potchefstroomse Universiteit bygewoon het, en dit het onmiddellike sukses behaal. Dit het talle herdrukke beleef en dit was vir jare op die voorgeskrewe lys vir skole. Lizette Potgieter skryf in Die Burger van 12 Mei 1999 dat Die jaar toe my ma begin sing het tien jaar na die verskyning daarvan nooit uit druk was nie.

In die novelle kan ondertone van As I lay dying en The Hotel New Hampshire bespeur word. Dit vertel die storie van ’n gesin – ’n ma, ’n pa en sewe kinders. Die jongste, wat erg gestrem is, word op ’n baie gewelddadige wyse met ’n broodmes doodgemaak en die hele gesin se lewens word omvergegooi.

Potgieter gaan voort: “Baie boeke is al geskryf oor gesinsgeskiedenisse en familieverwantskappe. Wat lesers egter noop om hierdie klein literêre juweel weer en weer te koop (dit word dikwels weggegee en dan wil die eienaar dit weer lees) is die feit dat dit die totale mens aanspreek en vol universele waarhede is.”

Gert Basson, destyds hoofuitgewer van algemene boeke by Van der Walt Uitgewers  (vandag LAPA), het dit bevestig dat “’n hele paar mense hierdie boek al 'n paar keer gelees het”. Die eerste keer toe Basson die manuskrip van Die jaar gelees het, het hy in die trein gesit en die getikte letters was so dof dat hy dit teen die venster moes hou om dit gelees te kry, maar hy het dadelik geweet dat dit ’n besonderse boek is. Hy het ook die versorging van die manuskrip gedoen.

Verskeie faktore het saamgespan om die boek so suksesvol te maak: die akademiese mark, leeskringe, teater en boekwinkels. By ’n onderwyskollege in KwaZulu-Natal wou die eerstejaars op aanbeveling van die tweedejaarstudente ook Die jaar as voorgeskrewe boek hê.

Die jaar toe my ma begin sing het is ook deur twee akteurs in verhoogverwerkings op die planke gebring. By die eerste KKNK in 1995 is ’n verhoogverwerking van Wim Vorster van hierdie novelle op die planke gebring as ’n solostuk met Hannes van Wyk. Die spelleiding was deur Gert van Niekerk.

Die stuk is in die feesgids as volg beskryf: “Dié eenmanvertoning met Hannes van Wyk handel oor die lewe van ’n doodgewone vrou, op ’n doodgewone plaas, gesien deur die oë van haar ses kinders. Wat begin het as ’n doodgewone jaar, verander geleidelik wanneer die vrou deur ses Bybelse plae moet worstel. Die sewende een kry haar onder en dan begin sy sing.

“Konstans, die kind wat naaste aan sy ma was, vertel die storie van die ses kinders. Hy soek ná sy ma se dood na die waarheid en oplossing vir ’n geheim wat net sy ma die antwoord van ken, of dalk ook nie …” (http://kknk.co.za/nuus/hannes-van-wyk-by-eerste-fees).

In 1997 het Elma Potgieter Die jaar toe my ma begin sing het ook vir die verhoog verwerk en is dit in die Witbank Stadsteater aangebied as deel van hulle solo-aanbiedinge. Sy het dit ook in 1998 by die Aardklop Kunstefees aangebied met haar man, Schalk Jacobz, as die regisseur.

“Toe ek die roman gelees het, het ek gelag en gehuil en ek het dit weer gelees,” het Elma aan Beeld (10 Oktober 1997) gesê as verduideliking vir waarom sy die verhaal aangepak het.

Schalk Jacobz het haar gehelp om ses karakters in die roman uit te beeld. In die eenvrouvertoning is Potgieter die rasionele Wilmien, die emosionele Hermione, die neurotiese en paranoïese Trien, die flambojante Roald, die wetenskapgerigte Konstans en die vrygeestige Hjalmar. Ná haar optrede by Aardklop het Elma Potgieter ’n staande toejuiging ontvang.

Toe Engemi Ferreira haar debuutnovelle geskryf het, het sy “probeer om true te skryf, sonder pretensie, en nie om die leser te vermaak nie,” het sy aan Lizette Potgieter vertel. “Alhoewel ek André P Brink se werk bewonder het, kon ek nie in Gerugte van Rëen die Afrikaner kry wat ek gesoek het nie. Ek skryf toe oor Afrikaners waarop ek kon trots wees en sou wou ken. Soos die sentrale ma-figuur wat waarskynlik almal aanspreek: sy is wys, sterk, toon begrip en verstaan bowenal die liefde.”

Engemi het die hoop uitgespreek dat haar lesers sal besef dat “ons almal baie wyser is as wat ons dink. Ek beskou self nie my werk as ‘wysheidsliteratuur’ nie. Wyshede word kwytgeraak om ’n tafel, soos wat ons dag tot dag leef. Dit is dan ook wat ek probeer bereik het met my karakters: humane persoonlikhede wat elk sy eie lewenspaadjie volg op soek na die waarheid.”

Lizette Potgieter het afgesluit: “Ons lewe in ’n tyd van radikale vereensaming van die individu. Die jaar toe my ma begin sing het bied voedsel vir die gees, ’n lied vir die hart. Met kenmerke van die esoteriese en aanduidings van ’n religiositeit wat privaat en subjektief is, bied hierdie novelle ’n spirituele belewenis. En boonop seëvier die liefde. Dit is waarom hierdie boekie ná meer as ’n dekade steeds gekoop word.”

Elize Botha het in die 1999-uitgawe ’n voorwoord geskryf: “Dit is ’n klein gesinsgeskiedenis, waarin subtiel en met piëteit getas word na die soet dwingelandy van liefde en lojaliteit wat deur familieverwantskappe tot stand gebring word. Dit is ’n verhaal van buitengewone dinge: ’n sonderlinge gesin en ’n sonderlinge gebeurtenis, vir ’n goeie storie.” (Beeld, 29 Maart 1999)

Die verhaal is in sewe hoofstukke ingedeel en ses kinders vertel die storie, want die sewende kind is as ernstig gestremde gebore. In die sewende hoofstuk is een van die dogters vir die tweede maal die verteller en dan vind die leser uit wat gebeur het in die jaar “toe my ma begin sing het”.

Vir Heilna du Plooy (Beeld, 28 November 1988) is die ma die figuur wat alles oorheers. “Sy bepaal die atmosfeer in die huis, vorm die kinders en versorg hulle met wat beskikbaar is. Haar dryfkrag dra die gesin, en haar insinking bring almal tot verslaenheid. (...) Dit is ’n boeiende storie, ’n dramatiese en sterk verhaal. En miskien moet dit net so gelees word. Vir my smaak is alles en almal uiteindelik te uitsonderlik om te bly oortuig en die talle artistieke verwysings na die literatuur, die teater, ensovoorts, bly vir my los en soms selfs kunsmatige invoegsels.

“Die materiaal waaruit die verhaal opgebou is, is myns insiens sowel die groot bate as die groot probleem in die novelle, want die skryfster skryf gemaklik en vloeiend.”

In Volksblad (8 Oktober 1988) skryf Anna van Zyl: “Die novelle praat met die leser, en by herlees vang jy al meer drade wat inmekaar geknoop is, staan die mens, Ma, al duideliker as heroïese, grootse figuur, en die kinders bly maar kinders in hul siening van hul ma al is dit 21 jaar waaroor hulle terugkyk. Met dié besondere novelle het die skryfster iets treffends bygedra tot ons literatuur, miskien selfs ons wysheidsliteratuur. Die verhaal voltrek hom op meer as een vlak; gesinstorie en diepe ontrafeling en het daarom wye trefkrag.”

Ook Barrie Hough het gunstige kritiek oor Die jaar uitgespreek in Insig van Oktober 1989 en het Engemi beskryf as ’n “skryfster met vars en oorspronklike idees, iemand wat iets het om te sê en dit met ’n slag doen”.

Dit was net André P Brink in De Kat van November 1989 wat nie oorgeloop het van opgewondenheid oor die debuutnovelle van Engemi Ferreira nie. Volgens hom het die werk wel “die grondstof vir ’n boeiende en verwikkelde teks, maar dit was krimineel van die uitgewer om dit in dié konsepvorm te publiseer, voordat dit déúrgewerk is”. Hy eindig sy bespreking as volg: “In ’n verhaal wat by uitnemendheid ingestem behoort te wees op die ‘vroulike grammatika’, bly die skrywer uiteindelik self gevange in manlik-bepaalde vertelstrukture wat nòg haar hoofkarakter nòg sy self kan deurbreek.”

Engemi het in die De Kat-uitgawe van Februarie 1990 op Brink se resensie gereageer. Sy het so afgesluit: “En voor man en vrou nie grootword om mens te word en dié intrinsieke tweeledigheid van die godhead erken nie, sal die ragnarok bly voortduur.”

In 1995 verskyn daar ’n bundel kortverhale getiteld Brood vir die engele, weer by Van der Walt Uitgewers. Johann de Lange skryf in Rapport (12 November 1995) dat Engemi met hierdie bundel die belofte wat haar debuut daargestel het, bevestig. Vir hom het sy in Die jaar toe my ma begin sing het gewys dat sy groot sensitiwiteit aan die dag kan lê as dit kom by die sielkundige dimensies van haar karakters. Sy het ook ’n fyn begrip aan die dag gelê vir die intrige en menseverhoudings.

Daar is ses verhale in die bundel en al ses beïndruk De Lange as gevolg van hulle “rypheid en insig, soms die oer-wysheid van die verteller. Dis verhale dié wat vir die leser ’n ‘slice of life’ gee, bittersoet en vrank; en haar karakters in hulle aspirasies en falings bly vir ’n ruk lank in die gedagte.”

Van die onderwerpe in die verhale is vigs, ’n huwelik wat na dertig jaar nie wil doodloop nie, twee skoolvriendinne wat mekaar na ’n lang tyd herontmoet en mekaar se lewenstyl begeer. Daar is ook ’n novelle getiteld Die metateks oor haar ervarings tydens die Wits Winterforum in 1993.

Vir Helize van Vuuren in Karring van Somer 1995 was die bundel van Engemi ’n teleurstelling en was dit nie op dieselfde vlak as Die jaar nie, behalwe “Die metateks”.

Joan Hambidge het Brood vir die engele beskryf as ’n “klein bundel met ’n lieflike omslag na Carvaggio, met sterk, filosofiese verhale wat die teenstrydighede van menswees ondersoek”. Ook vir Hambidge is die interessantste en beste verhaal “Die metateks”. “Ferreira se verhaal is nie net ’n verhaal wat op sigself inbuig nie; dit word ook ’n knap ondersoek na hóé ’n mens op verskillende vlakke onthou en interpreteer. (...) Op ’n ander vlak is dit ’n skerp analise van ons literêre toneel met sy nydighede, rugstekery, gewaande roem en media-beheptheid.”

Die verhale in Brood vir die engele is volgens Hambidge nie net toeganklik vir die gewone leser nie, maar vir die leser wat filosofies lees en postmodernisties ingestel is, is daar baie eksperimente wat kan interesseer.

PC van der Westhuizen (Beeld, 23 Oktober 1995) is dit eens met die meeste van die ander resensente dat Engemi Ferreira met Brood vir die engele haar duidelike talent bevestig en dat dit ’n bundel is wat, hoewel daar enkele swakkere verhale is, soos “Tee op die stoep” en “Wiegelied”, nie ligtelik beskou moet word nie.

In Insig van September 1995 het Ia van Zyl egter voorbehoude, net soos wat sy gehad het met Die jaar. “Aan die een kant boei die verhale weens hul broeiende intensiteit en – weer eens – die uitsonderlike verhaalgebeure. Aan die ander kant lei juis hierdie eienskappe ten slotte tot ’n gevoel van oordaad. (...)

“‘Die opvallendste aspek van hierdie bundel is die popular-filosofiese trant daarvan.’ Aldus die lokteks. Hier lê egter die knoop. Terwyl sommige verhalings as vertellings boei, word ander ondermyn deur filosofiese konsepte – soms vir die leser duister. Ek dink hier aan ‘Die herder van Torrabilly’, ‘Die Wiegelied’ en enigermate ook die tegnies nogal vernuftige ‘Die metateks’.”

Oor hierdie resensie van Ia van Zyl was daar in die Januarie 1996-uitgawe van Insig ’n brief van HA van Emmenis van Sunnyside waarin hy dit stel dat Van Zyl nie die gebreke in die boek uitgewys het nie, maar dat daar groter gebreke in die insig van die resensent was.

Engemi was ook in die jare 1990 ’n gereelde deelnemer aan die ATKV-Kampustoneelfees met haar dramas. In 1991 is haar drama Sewe stasies, oftewel, Een aand op die trein na Pretoria deur studente van die Universiteit Stellenbosch onder regie van Herman Pretorius opgevoer. Diane de Beer (Pretoria News, 9 April 1991) het gevoel dat die stuk te lank was en dat die redigering strenger kon gewees het. In die produksie, wat ’n kabaret is, word daar na die sewe doodsondes getoer. Die reisiger word deur duiwels en ’n Rooi Engel op ’n treinrit deur die land gelei, skryf Gary Kitching in Beeld (9 April 1991). Die reis se begin is in Kaapstad en sy einde in Sin City, waar siele uitverkoop word. Ook Kitching meen dat die stuk net sou gebaat het by ingrypende besnoeiing en herstrukturering.

In 1992 is Engemi se Des Coninx Bode op die planke gebring. Die kunsredakteur van Insig (Mei 1992) het gemeen dat daar ’n “verhoogstuk vol ideërykdom vasgestrengel is” in die stuk, maar dat daar wat betref die tema van die stuk om ’n “duideliker omlyning vra en die struktuur skree om vereenvoudiging en ’n duideliker kern”.

Engemi is ook lief vir kinderteater en het stukke soos Ghwarriebos en Nxharra – kinderteater met Boesmans – en Lepel hou konsert – in opdrag van haar kinders se destydse plaasskool vir die kleuterklasse – geskryf. Ander stukke sluit in Die Verhemeltes – effens dramatiese stuk oor depressielyers, Die vierde Wyse Man – ’n Kersspel en Bidsprinkaan en Maan – ’n sprokie vir die verhoog.

Engemi stig ’n skrywerskring in Nelspruit, waaraan 20 lede met meerdere en mindere sukses deelneem. Tussen 1990 en 1996 woon sy in die gesin se dorpshuis in Lydenburg ter wille van skool vir die kinders. Hier tree sy op as impresario en gaan voort met wat vandag algemene praktyk is, maar in daardie jare effe meer ongewoon was en waarmee sy reeds in die vroeë tagtigerjare in Nelspruit begin het: sy nooi die opkomende kunstenaars van die land uit vir Afrikaanse Aande met Konsert en Kos, waartydens ook Afrikaanse boeke en CD’s verkoop is. Sy word deel van die Bacchus-kwartet, ’n a capella-groep wat oral in die Laeveld en in Pretoria opgetree het.

Engemi was ook die samesteller en regisseur van die baie gewilde en suksesvolle Jannie en die Tannie, met Jannie du Toit en Christa Steyn. Hierdie aanbieding was nie net plaaslik ’n sukses nie, maar ook oorsee.

Engemi woon tans op Vermont, naby Hermanus, in die Suid-Kaap.

Publikasies:

Publikasie

Die jaar toe my ma begin sing het

Publikasiedatum

  • 1988
  • 1993
  • 1994
  • 1999
  • 2000
  • 2003

ISBN

  • 0799313335 (hb)
  • 0799326216 (sb)
  • 0799331392 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Naaswenner ATKV-Prosaprys 1988

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brood vir die engele

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799321834 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Engemi Ferreira beskikbaar op die internet:

Nota van samesteller:
Aan die einde van die onderhoud met Fanus Rautenbach in Rooi Rose van 4 Oktober 1995 het hy gevra: “Jy’t alles opgemaak, nè?” en Engemi het geantwoord: “Omtrint. Alles.”

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-08-27
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

 

The post Engemi Ferreira (1943–2019) appeared first on LitNet.

Danie Botha (1947–)

$
0
0

Sêgoed van Danie Botha

Na die verskyning van Die Soft Rock Klub: “Die feit dat ek eksplisiet skryf, hang saam met daardie deel van die gay psige om uit te flap – maar dan moet ek dadelik bysê dat hierdie een van die baie stereotipes is wat oor gay mense bestaan. Ondanks die stereotipes bly gay mense uiteindelik almal individue.”

Oor die kontroversie rondom Die Soft Rock Klub: “Wat help dit ek probeer myself verdedig? Ek weet waar ek staan met my geloof en hoe ek daaroor voel. En terselfdertyd is ek nie skaam oor die onderwerp van my boek nie.”

“Maar die wag vir die resensies is hel. (...) As toneelkritikus het ek my al dikwels in die skoene van die akteurs geplaas, gewonder hoe hulle oor kritiek voel. Miskien die dag gevrees dat ek self aan sulke kritiek en ontleding onderhewig sou wees.”

Soek hy nie resensies nie? “Nie slegtes nie! Nee, resensies is ’n noodsaaklike euwel en as redakteur weet ek dis meestal goeie publisiteit net om ’n boek se titel en ’n skrywer se naam in druk te sien. Ek weet watter emosies ek in my boek gesit en waarom ek oor sekere dinge geskryf het. Daardie dinge wil ek met die lesers deel, daarom is ek bang lesers sien dit nie raak nie. Of miskien sien 90 persent dit raak, maar ek hoor dalk net van die resensente wat nie my idees oor die boek deel nie. Miskien sien ek dit op te ’n intieme en persoonlike vlak.”

“My lewe is die vak wat ek die beste ken en die helderste oor kon skryf.”

Oor die gayterrein (in 2004 aan Deborah Steinmair op LitNet): “Jy sal my nie in 'n gaykroeg of -klub kry nie; ek sterf voor ek fopdos; ek voel my nie tot gaytrotsparades gedrewe nie. Maar ek staan nie veroordelend daarteenoor nie. Jy sal my wel by Adult World se ‘video lounges’ of die minder ‘prissy’ gaystoombaddens aantref. In die ou dae op Sandy Bay en Graaff se Poel. Dis deel van die opwinding van Gay@LitNet: om al hierdie fasette van die gaylewe onder woorde te kry. Ons is in sekere opsigte nes die straights, maar in ander opsigte beslis anders, of vermoedelik anders. En as ons dan in groepsverband optree, kan jy die saligheid van ondersteuning, identifisering en geesgenootskap ervaar. Maar, og, soms kan 'n mens ook baie ‘uit’ voel tussen die klomp. As hulle jou eers met daardie harde visoë aankyk, as jou soort humor in kille stilte ontvang word ...”

Weer Deborah Steinmair in 2004: “Jy is kort na die Tweede Wêreldoorlog gebore en het die geboorte van die rekenaar en die wêreldwye web meegemaak, interessante tye voorwaar. In watter eeu sou jy wou leef as jy kon kies?” Danie: “In die jare sestig en sewentig van die twintigste eeu toe ek nog lekker patrioties kon raak met ’n volkslied, landsvlag en die FAK-sangbundel, met geestelike oorgawe na die dienste van die NG Kerk kon gaan, toe dit makliker was om wit, manlik en Afrikaans te wees, sonder die huidige gewetenskwessies en die ontstellende sedelike en politieke toestande. Maar, ja, ek moet terselfdertyd vra vir ’n rekenaar, e-posse en seksvideo’s. En DStv om sawends na Nederland toe te ontsnap.”

Watter vier historiese of lewende persone sou hy vir ete wou uitnooi? “Tennessee Williams, Anton Tsjechof, Stef Bos en die bleskop-weervoorspeller op BVN. As van hulle nie kan kom nie: Kenneth Tynan, Lucas Malan of Daniel Hugo.”

In 2007: “Ek weet hoe verskriklik dit is vir amateurtoneelspelers om negatiewe kritiek te kry, en my doel is om soveel as moontlik regverdig en omvattend daaroor te skryf. En ek probeer altyd, as ek byvoorbeeld ’n problematiese speler het, om ook iets positiefs oor hom te sê, saam met die negatiewe. My goeie wil is daar.”

 

Gebore en getoë

Daniel Stephanus Botha (Danie) is op 28 Februarie 1947 naby De Doorns gebore. Hy word groot op ’n plaas in die Brandwachtvallei ten noorde van Worcester as die oudste van drie kinders, met ’n suster Dria en ’n broer Koos – “[I]n verhale figureer suster Dria as Dria, maar broer Koos word Braam, omdat ek sy Jako(bus) vir my toegeëien het in die stories.” Sy ouers is PP du T Botha en Rachel Elizabeth Möller. Hulle is op 11 Mei 1945 getroud.

Danie vertel aan LitNet: “In standerd 2 in die laerskool het ek en Christo Botes al ‘koerante’ geskryf. Aan die einde van standerd vyf het mnr Seekoei van Zyl my opstelboek as voorbeeldboek ingeneem, en hy sou my roman in Croxley-boekies vir ’n uitgewer stuur.

“Ek publiseer ‘lerende’ kinderverhale vanaf 15 jaar in Die Kerkbode tot 1968. Dis stories uit my eie ervarings of ek vertel stories oor uit ou preekbundels (met bronerkennings) of dramatiseer Bybelgedeeltes. As ek my toepassings nie te eksplisiet genoeg doen nie, klim die kinders se tannie Willa self in. (Vanaf 1994 sou ek ’n tyd lank bydraes lewer vir Die Kerkbode se “Stilhouplek”-rubriek waar dieselfde formaat gevra is: iets uit die alledaagse lewe en dan ’n godsdienstige toepassing.) In 1962 begin ek ’n rubriek vir kinders in die Worcester Standard, maar toe niemand vir ’n wedstryd inskryf nie, word dit summier gestaak!”

Van vroeg af het Danie begeer om “in die openbaar op te tree”. Hy lees voor by die skooldebatsvereniging en speel saam met onder andere Helena Conradie (tans bekend vir haar voordragte op CD’s) in tant Hanna Oosthuizen se Kersboomkonserte in die Erasmusse se plaasskuur.

“In 1962 wou ek ook soos PG du Plessis se Tiemie ‘van geweet wees’ en doen ek gratis diens op Saterdagoggende en in skoolvakansies by die Worcesterse Openbare Biblioteek. Onder leiding van me’e Fergusson, Brandt, Anderson en andere doen ek waardevolle ervaring van biblioteekwese en van boeke op. Ek stap dan die ses myl terug plaas toe ná die tyd. Al lesende aan die reisboeke van Elsa Joubert of die Kadet-reeks. Het wel mettertyd ’n fiets gekry.

“Gedurende hierdie tyd neem ek deel aan die SAUK se Jeugprogram: ‘Skrywers van die toekoms’. My vyf minute lange hoorspel Drie uile word uitgesaai en ek skryf geïnspireerd elke week ’n hoorspel vir Morkel van Tonder, maar weens gebrekkige belangstelling van ander skrywers staak Daan Retief die program. Ek het my uitgedaag gevoel om George H Weideman as digter te onttroon. Toe Pieter W Grobbelaar sy kritiek op mý gedig lewer, hoes my oupa en kon ek dit nie hoor nie. (Sien Ensovoort, jaargang 11, 2007 oor Weideman.)

“Teen 1964 plaas Monica Breedt feitlik elke week ’n bespreking van Danie Botha van Russelstraat 75, Worcester (ons posadres) oor ’n uitgesaaide hoorspel in die rubriek vir sulke luisteraarskritiek.

“Ek het altyd radio-radio gespeel. Met die opwengrammofoon en ’n voorraad ou Huisvrouens waaruit ek ds Latsky se preke voorgelees het en resepte met herhalings nes Esmé Euvrard in ‘Só maak mens’. Die uitsendings is gedoen vanaf ’n ontruimde buitekleinhuisie. Radio Buitelug was weer ’n stasie waar ek gereeld rondgeloop het en dan optogte beskryf het. In ’n bloekombos was ’n groot ou staaldrom wat lekker weerklink het vir my dramas wat ek opgemaak het. In ’n ou stal het ek boeke gedramatiseerd voorgelees, met Joey de Koker en Lana Turner as van my spelers.

“Dis in die ou Huisvrouens van tant Rina le Roux dat ek die rubriek vir kinders gelees het. Het nooit geweet dis geskryf deur Audrey Blignault nie. Daarin lees ek toe van Marietjie wat so in die huis konsert gehou het. Toe het ek eers saam met Ouma en Dria saans ‘konsert’ gehou op die gras voor die koeistalle terwyl ons wag vir die vol melkemmers. Gaandeweg het die konserte groter en meer gevorderd geword, byvoorbeeld aan die einde van ’n skoolkwartaal op die punt van ’n stoep waar daar ’n plankgedeelte was. Die gehoor: Oupa, Ouma en Ma. Soms meer. Groot aardigheid om kennisgewings op te sit op die groot sipresbome langs Ouma se rotstuin.

“Uit tant Rina se ou Saries Marais het Ma voorgelees vir ons uit Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas. Sondae het Ma uit Josef in Memfis van HJM Redelinghuys gelees. Sy’t pal vir ons saans en soggends uit Herman Scholtemeijer se Die kind se Bybel voorgelees. Ons kon selfs gedeeltes opsê: ‘Dis nog vroeg in die môre, maar die skaapwagter slaap nie meer nie. Hy staan al by sy skaapkraal en roep sy skape een vir een. Aan elkeen het hy ’n naam gegee …’

“Naas Alba Bouwer en WO Kühne se Huppelkind-reeks (wat ek vir ‘Braam’ voorgelees het) had sy styl ’n groot invloed op my. Ma het kleintyd gediggies vir my geleer en ek het selfs aandag getrek in die Voorbereidende Skool daarmee. (‘Mammie is laat/ en Pappie is kwaad/ Die meid het nie opgedaag./ Ek sal my maar was,/ dan vat ek my jas/ en maak net die voordeur oop …’) Sy sou op ’n vakansieoggend ons uit die bed kry met die oopskuif van die venstergordyne en die woorde: Cast the window wider, sonny,/ let me see the veldt,/ rolling grandly to the sunset. Internet sê dis uit ’n gedig van Percival Gibbon, dalk uit 1903. Of Red sky in the morning is the shepherd’s warning; red sky at night the shepherd’s delight. Ouma Botha was ons stiefouma, maar jy sou dit nooit sê nie. By haar het ek Boereoorlogstories gehoor terwyl sy staan en stryk. Vir haar en Oupa wat met ’n kruk en kierie geloop het, het ek soos Josef my drome van die vorige nag vertel, en Oupa het gesê hy kan sien hoe droom ek dit daar by die kombuistafel. En dit was waar! Oupa het vertel van goëlery en spoke. My nefie Niel wat seker so vier jaar ouer as ek was, het my die storie van die drie varkies geleer,” vertel Danie aan LitNet.

Toe Danie in standerd nege was, het sy ouers en sy broer en suster na die plaas Alartskraal by Rawsonville getrek waar sy pa plaasbestuurder was by Ernst Stofberg. Danie loseer sy laaste twee jaar op skool aan huis van Theuns en Anneline Botha op Worcester. Hy matrikuleer in 1964 aan die destydse Hoër Jongenskool Worcester.

Die Saterdagoggende en skoolvakansies wat Danie gratis by die openbare biblioteek op Worcester gewerk het, waarna hy in sy vertelling hoër op verwys het, het hom later in sy loopbaan goed te pas gekom.

Danie vertel in die reeks "Mense agter boeke" op LitNet aan Jaco Botha dat Pieter W Grobbelaar met sy radiorubriek By die boekrak gepoog het om die jongmense aan die letterkunde bekend te stel. Só het hy ’n wedstrydvraag gehad: "Soos: wat was CJ Langenhoven se skuilnaam? Ek wen die prys; ek kan uit twee boeke kies. In daardie tyd, in die begin van die jare sestig, begin ek om my eie uitsendings te behartig by Radio Opelug: Vanuit ‘n buitekleinhuisie wat in onbruik verval het, op die Groothuis se stoep onder die veranda, of saans as ek deur die hawerland loop om melk vir ons te gaan haal by Oom Jan-hulle; dan het ek optogte beskryf.

"Binne die eersgenoemde 'uitsaaistasie' boots ek vir Esmé Euvrard en Jan Cronjé na met die resepte wat so herhalend gelees word in 'Só maak mens!'. Kerkdienste word geskep met godsdienstige plate speel en preke van ds Latsky uit Die Huisvrou voorlees."

Hy vertel verder aan Jaco Botha dat hy in sy jeug ook die Afrikaanse letterkunde help versorg het: "Daar het ‘n sepiakleurige bylaag in die Naweekpos verskyn. Ek kon nog nie in my geliefde NALN in Bloemfontein vasstel wie dit saamgestel het nie. Ek vermoed dit was die geesteskepping van Berta Smit, toe ’n redaksielid daar. Per bladsy ’n foto van die skrywer, ’n bibliografie en enkele gedagtes oor sy of haar werk. By Radio Opelug het ek Tsjaikofski se 'Suikerfee-valse' as kenwysie gespeel (omdat dit van die min ernstige musiek op plate was tussen die Gene Autrys en Chris Blignauts in ons huis). Dan het ek, sê maar, iets oor GH Franz voorgelees. Ek het ook uittreksels uit Afrikaanse dramas opgevoer. Tussen twee damme het waterslote geloop. Naby die koeistalle het die water oor ’n rots gestort. Naby hierdie 'waterval' sit ek en lees uit ‘n bloemlesing deur DF Malherbe. Ek lees almal se rolle en maak 'byklanke' met skeppe water. Dis eintlik ook agtergrondmusiek vir byvoorbeeld Malherbe se Koringboere."

Danie was toe ’n pryswenner, maar hy het nie geweet watter boek om te kies nie: "Ken nie boeke nie. Of nee, wag, so ’n maand vantevore het die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens vir Worcester die wonderlikheid van ’n biblioteek vir volwassenes en kinders gebring. Teen daardie tyd het die skoolbiblioteke ook ’n groter toegang tot boeke beteken. Soos die hartseer storie van Sita se Bennie-boet. Ons twee was albei kunsterig met ’n boer vir ’n pa, ’n man wat in die sweet van sy aanskyn ons kos kombuis toe gebring het en wat nie reggekom het met aansitterige seuns nie. Vir hom was sulke seuns 'trassies'. My eie storie oor so iets staan in Die Soft Rock Klub (Tafelberg, 1995).

"My tweede versoek vir die prys is Die Ark van Margot Benary, wat ek pas by die nuwe kinderbiblioteek uitgeneem het; Hanna Hoekstra het dit uit Duits vir JL van Schaik se Libri-reeks van klassieke jeugboeke vertaal. En my eerste keuse kom vermoedelik uit juffrou Berta se lys: NP van Wyk Louw se Lojale verset. Pieter W Grobbelaar het sy gehoor gekén en Die Ark was die wenboek. Dit staan al jare lank naby die rak met my eie publikasies. Voorin ’n strokie van die SAUK wat getuig dat ek die prys gewen het."

Verdere studie en werk

Ná skool gaan verrig Danie nege maande militêre diens op Oudtshoorn en Grahamstad (waaroor hy nog moet skryf). In die kapelaanskantoor op Grahamstad het hy nog van sy Kerkbode-stories geskryf. Ná sy militêre diens gaan werk hy as toesighouer by die sagtevrugte-fabriek op Worcester.

In Februarie 1966 begin hy werk in die Sentrale Naslaanafdeling van die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens in Kaapstad. Vanaf 1967 tot 1970 studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch en behaal sy BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands. Gedurende hierdie tyd bly hy steeds in diens van die Biblioteekdiens en werk vakansietye daar, terwyl hy jaarliks studieverlof neem.

Op grond van sy gedigte wat hy gedurende dié tyd geskryf het, en nie as gevolg van akademiese prestasies nie (sy eie woorde!), word hy lid van DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium en dien hy in die redaksie van Die Matie as deel van die kunsredaksie saam met mense soos Fanie Olivier en Etienne Britz. Hy stig in 1970 saam met Fanie Olivier die letterkundige blad Penseel. Hy vertaal en verwerk Bernard Gilbert se Eldorado vir die radio; dit word op 4 Oktober 1967 uitgesaai met Wena Naudé in die hoofrol en Roelf Jacobs as regisseur.

Danie vertel dat hy as “ou man” op universiteit aangekom het in die koshuis Helderberg as gevolg van sy diensplig en die jaar se werk in “die bose stad” by die Biblioteekdiens. “Ek was steeds baie introvert, ernstig, godsdienstig. Maar veral vanaf my tweede jaar (1968) het ek in ’n mate meer ontspanne geraak, met my redakteurskap van die koshuiskoerant Die Bergkuiken (elke jaar moes die eerstejaars deelneem aan ’n militaristiese seremonie wanneer ek die eerste uitgawe van die jaar aan die inwonende hoof en die primarius oorhandig het), Burger-aflewering in die kamers soggends (o, wat moes ek nie soms aanskou en ruik nie!), kunsredaksielid van Die Matie, ensovoorts. Saam met Jan Ungerer (nou dominee op Worcester) stemmige agtergrondsmusiek opgestel vir die Sondagmiddagete, en toe sluit ons in ’n manskoshuis so waar The Sound of Music in. ’n Gekreun, dan luide protes.”

Vir die eerste keer in sy lewe het Danie ware geesgenote gevind onder die tokkelokke (hy was egter skaam om vir hulle te wys dat hy die klankbaan van The Graduate gekoop het met die omslag waarop Miesies Robinson so been wys vir die belustigde Dustin Hoffman), die dramastudente en mede-Afrikaans-Nederlandsers en Bybelkundiges. “Dit was die tyd dat ek waagmoedig was om DJ Opperman se Edms Bpk, wat so pas verskyn het, te resenseer in Die Matie … Hy stap verby ’n seminaarkamer waar ek sit en wag vir klas, draai om en sê: ‘Baie dankie vir die bespreking.’ Ek het dit nie as sarkasties ervaar nie.

“Dit was ’n tyd van agnostiese gedagtes. Van alleen sit in die donker in die gemeenskapsaal by die platespeler en luister na Gluck se ‘Reis van die Geluksalige Siele’, opkyk na die sterre deur die venster en wonder oor selfmoord. Tydens die wintervakansie in die Kaap het ek ’n homoseksuele ervaring met ’n ouer man gehad. Terug op Stellenbosch het dit tot erotiese onrus én verdere seksuele avonture gelei. In my klerekas was daar ’n voorraad Modern Adonisse wat handig was die naweke as ou kamermaat Daan Wium huis toe is, of as ek laatnag verskuil was agter ’n boekrak langs my bed. In my derdejaar ‘pomp’ ek vir ‘huiskom’. Die dag van die verkiesing besef ek dat die eerste ding wat die manne doen wanneer jy inkom, is om jou klerekas te kom omkeer. Hulle sou wéét. Ek het my hulpmiddels na die vullisdromme agter die wasgoedtannies se kamers geneem en dit daarin verbrand. Ek is nie verkies nie.”

Vanaf 1971 tot Junie 1972 is Danie voltyds Afrikaanse boeke-keurder vir die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens en dien hy ook in die redaksie van Die Kaapse Bibliotekaris, die Biblioteekdiens se kwartaallikse (toe maandelikse) mondstuk. Hy skryf gereeld artikels oor Afrikaanse skrywers, onder andere Berta Smit, Alba Bouwer en Audrey Blignault, en dít besorg aan hom die pos van redakteur: fiksie by Tafelberg-Uitgewers in Augustus 1972.

Gedurende die jare 1972 tot 1986 is Danie baie aktief by die kerk betrokke. Hy gee katkisasie sedert sy aanneming, is bestuurslid van die KJV/KJA by die Groote Kerk, en redakteur van die vereniging se Die Blaadjie. Hy is ook diaken en later ouderling. Hy woon as alleenlopende in Kaapstad in 1966 en toe weer van 1971 tot Desember 2006 toe hy hom in Fontaine Bleau-aftree-oord in Welgelegen, Parow gevestig het. Hy het in April 2009 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geword.

Danie is in Julie 1972 aangestel as redakteur by Tafelberg Uitgewers. Sedert die 1980’s is hy terug by fiksie en word hy senior redakteur aldaar. Tot sy aftrede in Maart 2000 het hy as fiksieredakteur alle genres van die letterkunde hanteer en gespesialiseer in literêre kritiek, skrywersbiografieë, bloemlesings, dramas, kortkuns en gayliteratuur. Ná sy aftrede was hy nog by Tafelberg betrokke en het hy boeke vir Homeros, die afdeling vir gay skrywers, hanteer.

Danie vertel as volg aan LitNet oor sy jare as redakteur by Tafelberg Uitgewers: “Ek het die werk van ’n boekeredakteur onder Berta Smit geleer. Sy het diplomasie, hoflikheid en lojaliteit by my ingeskerp. Hoe jy die vertroue van ’n skrywer moet verdien en dit behou. By haar erns en Christenskap het ek aansluiting gevind, wil byna sê dat ek iets van my ma by haar teruggevind het. Met verloop van tyd het ek tog maar soms krities teenoor haar geraak. Ek glo sy was absoluut die regte persoon op die regte plek op die regte tyd. Daar was aanslae van sensuur en sy het met skryfleiding en redigering dit help voorkom. Sy sou vyfuur in die oggend opstaan om ’n verdediging van Hennie Aucamp se Wolwedans op te stel sodat ons hoofbestuurder JD Pretorius iets het om die hoër gesag se aanklagte te besweer. Ná ’n middagete met genoeg wyn sou sy vir ons versamelde redakteurs eers Shakespeare opsê.

“Van die aangenaamste tye as fiksieredakteur het ek saam met Charles Fryer onder George Louw beleef. George - geordend, menslik. Hy het vir Tafelberg ’n groot guns bewys toe hy, met sy ervaring as verhaleredakteur by Die Huisgenoot, vir Ena Murray begin uitgee het. Dit was die begin van ’n suksesgeskiedenis wat tot vandag toe voortduur, selfs noudat Ena nie meer nuwe werk lewer nie. Hy werk tot vandag as afgetredene nog met haar werk. Dit was vir my ook baie bevredigend om haar romans te redigeer. Sy het die boeiendheid in haar verhale wat ’n mens dan met jou redigering net helderder maak. Met George se reputasie as digter en dramaturg het hy ook die vertroue van die skrywers gehad. Ek het eenkeer met die Akademiespelers ’n spellesing gedoen van sy onopgevoerde drama Komete – ’n gesinsdrama met dramatiese ironie wat nie maklik elders so lank volgehou word nie. Vandat ek in Panorama-Welgelegen woon, naby hom en Dorette, is ons huisvriende.

“Die langste het ek onder Charles Fryer as afdelingshoof gewerk. Hy en sy vrou, Loreinne, en hulle kinders en kleinkinders is ’n begrip in my lewe: die Fryers. Deur die jare het hulle my baie hulp gegee om praktiese dinge in my lewe reg te kry. Ek en Charles ken mekaar sedert 1967 toe ek as eerstejaar reg langs hom as senior aan die Helderbergse koshuisetenstafel moes sit. Hy was die agbare assistent van DJ Opperman, ’n vertrouensposisie wat hy in sy Tafelbergjare volgehou het. By Tafelberg het ek en hy tonne sakke sout verorber, koppe gestamp. Ons letterkundige smaak en oordeel het egter dikwels ooreengestem. Hy het my ook geleer om meer waagsaam te wees, meer ‘hekke oop te maak’. Dit het hý gedoen toe hy Die Soft Rock Klub geredigeer het, soms berooid in my deur met ’n vraag kom staan het. Tot vandag toe kan hy my as Gato (die kat in Pinokkio) se siel uittrek. (Ek en hy was/is berug daarvoor om byname te gee. Met sy kennis van films het hy my tot Orson Welles en Marlon Brando gedoop.) Hy kan vanoggend agtuur met ’n grappie begin en teen die aand nog steeds voortborduur. Ons deel ’n liefde vir die toneel (hy had opleiding onder Fred Engelen) en was saam op die Fleur du Cap-toneelpryspaneel.

“Petra Grütter (Müller) het met haar keuring en skryfleiding baie manuskripte reggekry voordat ons met die stiplees kon begin. Ek sal nooit vergeet hoe sy die slot van Etienne van Heerden se Toorberg met die uiterste oordeelkundigheid so ’n letterkundige hoogtepunt gemaak het. Ek kon met vertroue verder werk. Ai, haar stories, haar Boeregrappe wat reguit na my dagboek gegaan het. Toe dit in 1985 nag vir my siel geword het weens uitbranding het sy my in my depressie ondersteun. ‘Erken dat dit nou sleg met jou gaan, onthou hoe wonderlik dit vroeër was, en weet dat dit weer so sal word.’

“Met Louise Steyn (redakteur van jeugboeke) kom ek ook ’n lang pad saam. Ai, die vrou wat my so dwing tot noukeurige denke en veral volledige formulerings van my gedagtes. Ons het saam by Fiksie gewerk, maar hoofsaaklik was sy die innoverende hoof van jeugboeke. Vandag is sy ook vryskut-taalpraktisyn en konsulteer ons mekaar. Dikwels was sy al chauffeur-cum-metgesel vir my na die teater.

“Die jare sewentig en tagtig sal vir my die Goue Jare van Tafelberg-Uitgewers bly – die ‘regeringstyd’ van die ‘verligte despoot’ en groot kultuurmens, Danie van Niekerk.

“Toe ek in 2000 met vervroegde aftrede gegaan het, het hoofbestuurder Hannes van Zyl belowe dat Tafelberg nie bande met my sal verbreek nie. En tot op hede hou hulle die belofte gestand. Hulle en Human & Rousseau hou my konstant besig met projekte; soms raak dit amper te veel! Die een wat my die meeste werk gee, is Riana Barnard (alias Sussie). Ons twee het al deur twee uitgawes van Groot Verseboek geswoeg; teen halftien in die aand hou dié slim entjie mens nog steeds kop! Sy het my al twee versamelbundels laat saamstel: PH Nortje se Op ’n hoë noot en Fanus Rautenbach se Tien uit tien. Sy het al ’n paar maal as ‘mevrou Botha’ by funksies opgedaag! By Human & Rousseau gee Alida Potgieter en Janita Holtzhausen vir my keuring en redigering. Janita wéét ek hou daarvan om met bundels humorverhale te werk. Van Nico Nel en Uys van der Hoven, Piet Swanepoel en nou onlangs Sarel Pieterse wat helaas oorlede is voor sy debuut met Boerumoer.

“Ek diskrimineer nou teen talle kollegas wat ek nie hier dek nie. (Ag, julle weet wat ek bedoel!) Daar’s Maja van Zyl, Ettie Williams, Frederik de Jager, Madaleine du Plessis, Gerda Pretorius, Jürgen Fomm, Anna Jonker, Denise Ohlsen, Jana Luther, Vinkie Hofmeyr, Nonna Weideman, Annari van der Merwe ...

“En ek kan helaas ook nie verwys na al die skrywers met wie ek saam gewerk het nie.

“Ek is trots op die debute wat ek vir Tafelberg hanteer het. Daar’s dié waarvan ek net ’n eerste boek geredigeer het: François Bloemhof, Deon Meyer, Koos Prinsloo, Charl-Pierre Naudé, Charles J Fourie, Ronel de Goede, Emile Joubert. Van ander het ek meer hanteer: Elias P Nel, François Loots, Deon Opperman, Zuretha Roos, Robert Young, Wium van Zyl, Alsoon Wessels, Annemarie Coetzer, Elza Rademeyer, Leon van Nierop, Marlee Tesselaar, Mariël le Roux, ensovoorts.

“Ek het met verskeie van JC Kannemeyer se skrywersbiografieë gewerk. Dit was dan ook geestesverrykende ervarings om voor of ná die boek se verskyning op sy en Wium van Zyl se literêre toer na die betrokke skrywer se wêreld te gaan. Heerlik om net agteroor te sit en te luister hoe ‘oom Joon’ (ek is ‘Kommandant’ en Wium ‘Troep’) sy geweldige hoeveelheid kultuurhistoriese en ander inligting oordra. Om nie te praat van die toepaslike musiek wat gespeel word en al die ‘gastronomiese’ (John se geliefkoosde woord) vreugdes op pad nie. Twee keer het John ons ook na die Lae Lande geneem. Deur John het ek op plekke gekom waar ek as iemand wat nie motor bestuur nie, nooit sou kom nie. My samewerking met prof Kannemeyer het begin met sy samestelling van C Louis Leipoldt se versamelde poësie. Toe ek my oorgehaal vir die redigering verklaar, laat hy my dadelik verstaan daar word nie aan Leipoldt gesub nie!? Hy het dan juis al soveel aantekeninge oor byvoorbeeld al die variante gelewer. John het my ’n keer of wat probeer werf as navorsingsassistent, iets wat ek enorm graag sou wou doen, maar om dit met my Tafelberg-werk te kombineer, was ’n onmoontlikheid.

“Vir JC Steyn het ek eers gehelp met die geskiedskrywing oor Tafelberg Uitgewers, en toe was daar Van Wyk Louw deel 1 en 2 (nadat ek vroeër met Louw se versamelde prosa en poësie gewerk het)Daar is nogal druk op my geplaas om die redigering gou klaar te kry, maar dit was sulke intrigerende stof, prof Jaap se werk so goed dat ek dit nie as stresvol ervaar het nie. Toe ek een aand laat van die kantoor is ná redigering van ’n gedeelte oor die aard van poësie, is ek in Kerkstraat aangerand en beroof deur jong seuns in vaalgeel klere. Hennie Aucamp het my essay daaroor in Die Kerkbode (‘Stilhouplek’) hoog aangeslaan. Ek was ook bevoorreg om Jaap se MER-biografie en sy outobiografie Sonkyker te hanteer. Dis nog een van die genoeglikhede van Bloemfontein (naas werkery in NALN – sien later): ’n kuier saam met Jaap. Ons het ontdek dat ons ’n bewondering vir die Nederlandse en Belgiese televisie deel, veral ’n Gentse polisiereeks, Flikken. Met biografiese werk skep ek ’n aartsbehae daarin om elke liewe aanhaling te kontroleer. Doen dit ook in ander genres.

“Hennie Aucamp. Eers was hy Berta Smit en Charles Fryer se skrywer, maar vanaf Papawerwyn het ons baie, baie saamgewerk: bloemlesings, dagboeke, kortkuns, gedigte, literêre teorie, artikels vir Gay@LitNet. Hy is ook ’n onverdrote aanmoediger. Maak voorstelle vir boeke. Hy wil hê ek moet dié boek oor Worcester skryf, het al ’n bandontwerp daarvoor uitgekies. By hom kry ek die regte uitspraak van name en ander woorde. ’n Ensiklopedie van kuns en kultuur. ’n Boekesteet.

“Met PH Nortje se jeugverhale uit die Baviaanskloof het ek grootgeword. Ek kon as plaasseun my daarmee vereenselwig. Vir die eerste keer lees ek stories wat die plaaslewe uitbeeld soos ek dit ervaar: as nie heeltemal so romanties en wonderlik nie. Van my eerste boeke wat ek by Tafelberg geredigeer het was sy bundels humorsketse, en dit het ’n instelling geword. Ek het al sy werk vir volwassenes hanteer, en redakteurs soos Louise Steyn en Suzette Kotze-Myburgh sy jeugboeke. Eintlik is ons ervaringswêrelde baie verskillend. Hy is die gesins- en onderwysman. Ek kon as enkelloper huislikheid vind in sy vertellings, en sy behoudende waardesisteem bewonder. Toe Die Soft Rock Klub verskyn, het hy in enkele woorde laat verstaan hy aanvaar my gayheid. Dit het baie vir my beteken. Dit was vir my aangenaam om reeds twee keurbundels uit sy werk saam te stel.

“Engela Linde/Van Rooyen. Die laaste roman waarmee ons saamgewerk het en wat ek hoog aanslaan, was Vuur op die horison. Daar was talle ander. Dit was ook ’n voorreg om mee te werk aan die outobiografiese Met ’n eie siekspens. Sy is deur al die jare baie meelewend. Ek sal haar reaksie kry op my radiowerk, op ’n publikasie. Die toppunt was toe ek destyds in die Kerkbode-rubriek beskryf het hoe ’n seuntjie in die World of Birds by Houtbaai vrede had met die uile, maar eerder besorg was oor die psoriase op my elmboog; nie te lank nie, of ek kry ’n teer-middel in die pos van Engela. Haar kleindogter verjaar saam met my; dit laat oom Danie gelukwense met ’n familie hadidas stuur.

“Riana Scheepers het by ’n lemoenboom voor haar Seepuntse huis terstond besluit ek sal haar redakteur word. Van Dulle Griet tot haar verwerkte verhandeling oor Koos Prinsloo, ensovoorts. (Haar seun was by my in die katkisasieklas. As Adriaan Meyer maak hy jare later toe vir my en vir haar onder ons eie name karakters in sy bekroonde drama Prinsloo Versus.)In ’n stadium was ons kollegas by Tafelberg. In die tyd toe sy en Daniel Hugo nog ‘Abelard’ en ‘Héloïse’ was, neem hulle my saam op my allereerste oorsese reis: na die Lae Lande. Om haar bekroning met die Eugène Marais-prys te kon bywoon, koop ek my eerste aandpak. As sy sê ons gaan haar boek in Natal bekendstel, dan pák ek my tas; sê nie nee nie. Sien dan vir die eerste keer Durban én haar ma se feetjiestuin in Pietermaritzburg. Stormagtige tye met haar beleef, maar ook soveel weldadige menslikheid.

“My en Daniel Hugo se samewerking het lag-lag begin. ’n Dag lank het ons deur sy keuse vir Speelse Verse gewerk en net dié deurgelaat waarvoor ons ten minste ’n grinnik kon oproep. Daarna sou digbundels volg. Ai, hy was ’n vriend vir my gewees daar in ons jonger jare. Wat van die aande by André le Roux-hulle as hy skielik buitekant teen Schotschekloof ’n huilroep uit sou stuur? Met hom het ek leer kroeë besoek (en redelik vinnig afgeleer). As hy op ’n dag verveeld raak by die Seepuntse radiostasie, bel hy en moet ek hom eers vermaak met my geselskap. En altyd, dan en wanneer ons soms die pad vat êrens heen, het ek getwyfel of ek werklik sinvol met hom kan saampraat. Hy het my kanse gegee vir radio-onderhoude met skrywers. Dis ’n ou wie se vriendskap ek deesdae kwaai mis.

“Ek was bevoorreg om met Koos Prinsloo se debuut te werk. Ná Jonkmanskas was saamwerk weens allerlei omstandighede nie weer moontlik nie, maar ons het kontak behou. Hy had waardering vir my briewe. Ander s’n kom so uitgeknip voor vir nog ’n artikel in Tydskrif vir Letterkunde, maar myne was op hóm toegespits, het hy geskryf. Hy het my allereerste gayverhaal, ‘Jasper’, in Stet geplaas. Ek sou die laaste radio-onderhoud met hom voer. Sy Slagplaas het my baie ontstem. Ek onthou hoe ek sommer net laatmiddag die strate ingevaar het en gehoop het ’n seksuele kontak besweer my deurmekaarheid. Dit was tevergeefs. In Adriaan Meyer se drama vertel ek van hoe ek en Koos op ’n weeïge dag van wind in ’n Johannesburge restaurant sit en tob het oor ons wanverhoudings met ons pa’s. En meteens word ons bewus ons word omring met ballonne en vrolike gesinnetjies, want dis Vadersdag.

“’n Paar jaar lank was Ina Rousseau my buurvrou oorkant die straat. Vanaf my balkon kon ek afkyk op haar agterplaas en haar daar sien, besig met haar ‘asvaal’ takies. Ek was net die redakteur van haar (enigste) bundel kortverhale, Soutsjokolade, en van ’n vertaalde kinderboek. Het ’n groot bewondering vir haar poësie. Ons het hoofsaaklik oor die telefoon gekuier, ook later toe ek weggetrek het in 1994; Sondagmiddae het ek wel haar oë en gryse hare bo die tuinmuur gesien wanneer ek die naweek se koerante vir haar neem. Sy had die gewoonte om vinnig deur ’n koerant te kyk en dit dan op die stapel te sit vir latere sorgvuldiger lees. Daarom het ek nie ’n onmiddellike reaksie op my joernalistiek verwag nie, maar as dit dae later gekom het, was dit gewoonlik gul en bemoedigend. Deur my resensies het sy glo teater toe gegaan. (Ander digters wat waardering vir my toneelresensies gegee het, was Merwe Scholtz en MM Walters.)

“In my vryskutjare het ek al ure en maande bestee aan die werk van Annelie Botes. Die jongste Thula-thula en die outobiografiese Tabernakel. O, kan die suster dramaties en emosioneeeeel raak! Dan kry ek dit reg om haar tot besinning te bring en aanvaar sy my voorstelle. Ons hanteer mekaar met vertroue en kan ons ook oorgee aan jillery soos blyk uit ons name vir mekaar. Sy noem haarself Bassontjie, Moeder van Gertruida, Die klein Olifantjie, Lietjie wat spot met die oom en aspris in 20 pt tik ter wille van sy swak oë, Ossewania of Skinderbek van die Baai. Sy noem vir my Madala, Ouderling, Oupoot, Chuck Botha, Oom Dén, wyse man van tale, Mister Diebie. Ek noem haar Liefste Annalieee, Doggie, Godekindjie of Annelietjie. Soms is ons AB en DB.

“My jongste witbroodjie is Mariël le Roux. Sy en haar man, Jean, is nou in Hermanus, maar het in dieselfde jare as ek op Worcester grootgeword. Haar eerste boek, Wilhelmina, kampkind op Java, wat ek vir Protea Boekhuis geredigeer het, was vir my die openbarende verhaal oor ’n buurtannie uit my jeugjare in die Brandwachtvallei. Ons het geweet sy’s van Nederland, maar nie dat sy in ’n Javaanse krygsgevangenekamp haar jeug deurgebring het nie. Met Mariël se tweede, Die naamlose (bekroon), is ons ook op Worcester en op plase aan die suidekant van die dorp langs die Breërivier. Ná al die jare lees ek steeds met bewondering hoe kreatief ’n skrywer reageer op die redakteur se vrae oor ’n onduidelikheid, ’n logika- of konsekwentheidsfout, ’n lomp sinskonstruksie, ensovoorts. Jy as redakteur maak dikwels ’n voorstel, maar joune is net nie so sprekend en prikkelend soos die skrywer se verandering nie. Mariël sal byvoorbeeld ook deur die hele manuskrip werk en soortgelyke helder wysigings aanbring.” 

In 1981 word Danie se kinderboek Uil in die pad gepubliseer. Die hoofkarakter, Jako, is nie eintlik ’n bang seun nie. Hy hou daarvan om alleen in die bos en by die dam te speel. "Maar die skrik vir die uil dié dag was só groot dat hy nooit weer in daardie Engelse boek na die uilprent wou blaai nie. En as hy alleen deur die bloekombos stap, loop hy stadig en kyk stip, want as hy net betyds die uil kon sien, sou dit miskien nie so erg wees nie," skryf Reinette de Villiers vir Skrywers en boeke.

“Die Uil in die pad is ’n verhaal van ’n seuntjie wat sy vrees vir ’n uil moet verwerk. Danie Botha maak sy debuut met hierdie fraai verhaal waarin hy ’n sensitiewe beskrywing gee van die kindergemoed. Die verhaal word deurgaans vanuit die kind se perspektief vertel en nooit word die verteller een of ander alwetende allesverstanende grootmens nie. Ons sien die grootmense soos Jako hulle sien – Mamma met haar veilige voorskoot en Oupa, die kierieman, wat net drie maal op die vloer tok om Ouma, die kleremaakster koffiemaakster te laat word. Jako se vrees vir die uil word as ’t ware verteenwoordigend van elke mens se persoonlike vrees of probleem, iets wat hy net moet verwerk.”

Vir Joan Kruger (Transvaler, 15 Februarie 1982) is dit ’n sensitiewe juweel van ’n verhaal "met sy suiwer uitbeelding van stemming en gevoel en mooi illustrasies". Jeanne Goosen (Hoofstad, 10 Mei 1982) het sekere voorbehoude gehad, maar die skeppende taal en "sobere" manier van vertel is vir haar baie goed. En omdat die storie die leser laat nadink, maak dit Uil in die pad ’n boek met verdienste. Ook skakel Alida Bothma se illustrasies baie mooi by die verhaal in.

Oor Homeros sê Danie: “Teen 1998–1999 was die gonswoord ter wille van finansiële oorlewing ‘nis-bemarking’ by Tafelberg. Ek het op ’n middag ’n helder inspirasiebeeld gekry oor ’n afdeling vir gays in alle, alle genres. Maar van die begin af is ek helaas gewaarsku om versigtig en min uit te gee; dit moet ‘onder die kombers’ gebeur uit vrees vir teenstand van die hetero’s. En toe van die grootste boekhandelgroepe die gayboeke te gevaarlik beskou vir hulle gesinsgeoriënteerde boekwinkels, was die gevaartekens dadelik daar. Omdat daar nie ’n verskeidenheid genres gepubliseer is nie, is daar byvoorbeeld hoë literêre waardes van elke publikasie verwag wat onregverdig was. Later het ek ook met vervroegde aftrede gegaan omdat daar naas redakteur wees, ook verwag is dat ek buite my aanleg moes gaan en finansiële bestuur moes doen. Die afdeling het toe doodgeloop.”

Danie het nog altyd ’n besondere belangstelling in die toneel gehad en hy speel toneel vanaf 1972 tot 1973 vir die Groote Kerk KJA (As ons twee eers getroud is, Gerhard J Beukes)en die Teubes Prinsloo-toneelgeselskap (Ai tog, die vroumense!, Joan Retief). In 1976 verwerf hy ’n lisensiaat in voordrag en dramakuns aan die Akademie van Dramakuns (ADK) in Kaapstad, en is ook dosent daar tot 1986.

In dié tyd is hy sameroeper van die afdeling vir senior voordrag by die Kaapse Eisteddfod. As ADK-student is hy Cordenbois in Die geldpot (Eugène Labiche; vertaler Chris Lombard) en generaal Alonso in Dagboek van ’n soldaat (NP Van Wyk Louw) vir die Universiteit van Kaapstad se onderwysdepartementVir BAT is hy die Pottebakker in Montserrat (Emmanuel Roblés; vertaler Bartho Smit, 1977).

As stigterslid, voorsitter en speler van die intussen heengegane toneelgroep die Akademiespelers was hy betrokke by talle produksies in Die Kamer en op toer vanaf 1978 tot 1986. Daar was kinderproduksies soos Die kat kom weer (Truida Louw; die Koning, 1978), Lappies die Lappiesmous (Aad Greidanus; vertaler Wilma Stockenström; Alfons de Dikkerd, 1981) en Oom Dinges se poppewinkel (Conrad Seiler; vertaler Roy Niemann; Oom Dinges, 1982). Stukke vir volwassenes sluit in Moord! Moord! (Kenneth Lillington; vertaler Pieter Grobbelaar; Charles Popham, 1978), Ons hou konsert (Melt Brink en Robert Mohr; die dominee, 1982); hy skryf die skets Kantoormoles vir Gerard Scholtz se kabaret Laat ons nie praat nie (Oktober 1982), Eskoriaal (Michel de Ghelderode; vertaler André P Brink; die Koning),Mariken van Nijmegen (vertaler Rob Antonissen; die Pous), Karnaval ( Pieter-Dirk Uys; Boytjie, 1983), Doflig (Patrick Hamilton; vertaler Marie de Kock; speurder Rough, 1983), Graf vir ’n graaf (Esta Steyn; Majoor, 1983), Bitter lied van die somer (Dick Findlay; sersant Piet Venter, 1984), T in die Blou Kamer (Mikro, Bensen, 1985) en Ek onthou vir Mamma (John van Druten; vertaler Fred le Roux; oom Chris, 1990).

Vir BAT was hy regisseur van Graf vir ’n graaf (Esta Steyn, 1986), Die lawwe lyk (Esta Steyn, 1987) en Die spook van Verlatenfontein (FW Boonzaier; musiek en lirieke Francois Bloemhof, 1992). Vir PAT: Ons dorp (Thorton Wilder; vertaler Fred le Roux, 1987) en Voëlvry (verkort; DJ Opperman, 1988). Vir die Akademiespelers: Die verminktes (Bartho Smit, 1980), Liebelei (Arthur Schnitzler; vertaler Karel Schoeman, 1986) en Komete (George Louw, 1986).

In 1975 is hy Faan in die eerste opvoering van Wilma Stockenström se Die laaste middagmaal onder Limpie Basson se regie in die Buiteruimte.

As radiospeler was Danie Botha vanaf 1977 byvoorbeeld huilende skurke in Springbokradio-vervolgverhale, bedremmelde mannetjies in Suzanne van Wijk se radioteaters, of ’n komiese gesinsman in Die ABC van buurmanskap vir Pierre Louw. Hy voer onderhoude met skrywers vir Daniel Hugo en Nic Swanepoel se programme en doen die volgende radioverwerkings: Eldorado (Bernard Gilbert, 1966), My spook-ontmoeting op die En-See-See (CJ Langenhoven, 1998) en Om ’n man te koop, Die harde klippe, Jy ken nie vir Pa nie en Die Woensdagmiddag van mevrou Retief (Dalene Matthee, 2009) vir Radioteater.

In 1998 het hy weer in radiohoorspele begin optree, tot 2006. In 2007, 2009 en 2010 is hy ’n beoordelaar van die Sanlam/RSG-hoorspelwedstryd. In 2009 en 2010 stel hy drie Vers en klank-programme op en bied dit aan vir rsg (Margot Luyt). Vanaf Maart 2002 is hy een van die aanbieders van die kultuurprogram Kaapse Dagboek op Fine Music Radio in Kaapstad en bevorder hy Afrikaanse teater en musiek daarin.

Kerneels Breytenbach vra Danie in 1986 om toneelresensies vir Die Burger te skryf en hy doen dit aanvanklik as Christo Behrens weens sy verbintenis met die Akademiespelers, totdat ’n kunsbladredakteur sy regte naam per abuis gebruik het en hy teen daardie tyd uit die vereniging bedank het. Sy spesialiteit was studente- en amateurwerk. (Hy staak later 'n rubriek vir amateurs ná wederregtelike optrede van die kunsbladredakteur.)

Danie geniet veral die navorsing; die voortdurende uitdaging om die opvoering helder te beskryf – alles wat gebeur as vorm van geskiedskrywing, en om dit binne 500 woorde te doen.

Hy skryf ook boekbesprekings (hoofsaaklik van toneelboeke), artikels oor skrywers, en huldigings van akteurs, kollegas en skrywers. Dit was ook iets wat hy werklik geniet het, byvoorbeeld van PH Nortje, Minnie Postma, Berta Smit, Barrie Hough, Jill Fletcher, Albert Lintveldt, Louise Steyn en talle ander. Hy lewer ook in die openbaar huldigings oor Hennie Aucamp, Marzanne le Roux van der Boon, Pieter Fourie en ander.

Danie was ook lid van die beoordelaarspaneel vir die Fleur du Cap-toneelpryse van Distell van 1987 tot Februarie 2008, en in 2004 ontvang hy erelidmaatskap van die Masque-teater in Muizenberg vir bevordering van amateurtoneel.

In Desember 2007 word Danie se dienste vir die kunsblad van Die Burger ná 21 jaar beëindig omdat hy te skerp reageer as hulle sy skryfwerk sonder konsultering nadelig verander. Dit was vir hom geweldig traumaties, omdat veral sy toneelkritiek vir hom baie kreatiewe uitdagings bied. Hy lewer wel nog boekresensies vir die boekeblad en huldigings van skrywers (in lewe en nadoods). Vroeër het hy ook verskeie akteurs nadoods gehuldig. Gelukkig het die Fleur du Cap se teaterwebruimte sy Burger-resensies gebruik en van toe af het hy groot skeppende vryheid ervaar om spesiaal net vir hulle te skryf waaroor en hoe lank hy wil (sonder vergoeding!).

Op LitNet vertel Danie oor sy eerste “persoonlike ontmoeting” met ’n toneelspeler, die eerste maal dat hy aan een se hand geraak het: “[Dit] was met die NTO se Jeuggroep se Wie de drommel is Paskwaal? in die Paul Biesenbach-saal op Worcester in 1962. Mense soos Cobus Rossouw, Jannie Gildenhuys, Leonora Nel, Ernst Eloff, Roelf Laubscher, Irene Durr en Damaris Loubser het toe al ons voorgeskrewe werk tot lewe gebring met ’n tafel en stoele en mimiek. Maar nou het hulle ons volledig bekendgestel aan die magiese van die teater met ’n vollengte-stuk. Kort voor pouse laat hulle vanuit die kantverhoog papierborde reën op die verhoog. Een het afgevlieg tot vlak voor my waar ek as adolessent in die heel voorste ry sit.

“Tydens die pouse bly ek sit. Ek is alleen daar, sonder ouer of vriend. Toe verskyn hy om die gordyn wat oopgebly het, loer na ons en glimlag met ons. Ek herken hom as die man wat op die reklamefoto’s so met sy héle gesig lág dat die oë klein word: Limpie Basson.

“Hy begin die borde op die verhoog optel. Gespanne sit ek. Sal ek ... sal ek die bord optel, die paar treë vorentoe stap en dit vir hom aangee? Ek weifel en weifel. Uiteindelik dóén ek dit. En die godewese van die teater neem dit by my, glimlag, en die ene tande sê hy: ‘Dankieee!’ Kon ek maar die fensie aksent en hartlikheid weergee!”

In 1995 word Danie se bundel gay-verhale Die Soft Rock Klub by Tafelberg gepubliseer. In ’n onderhoud met Rachelle Greeff in De Kat (Augustus 1995) skryf Rachelle dat ’n leser wat begrip het vir homoseksuele mans se ewige en eensame soeke na vervulling, deernis sal hê met die skrywer. "Die vernedering, hoon en verwerping wat dié mans ervaar, word ontsettend nugter aangebied. Maar dit kan die sensitiewe leser walg, veral as jy nie ’n aanvoeling het vir ’n naakte register van manlike geslagsdele nie.

Danie het vermoed dat hy kritiek gaan kry uit die geledere van die NG Kerk, wat homoseksualiteit in daardie jare steeds verdoem het. Rachelle wou weet hoe hy hierop sal reageer as godsdienstige gelowige en Sondagskoolonderwyser aan die een kant en as nuwelingskrywer wat strewe na ’n eerlike, oortuigende teks aan die ander kant.

“Ek weet nie, ek weet nie wat my gaan tref nie. Ek is gewaarsku, maar kon tog nie stilbly nie. Ek wil aanvaar word soos almal om my, en omdat die gay nog in ’n groot mate onderdruk word, is daar ’n drang om oop te maak. Byna om ekshibisionisties te wees. Ek ly seker aan emosionele armoede, maar ek was so eerlik omdat ek nie van beter weet nie. En omdat ek nog nooit in ’n vaste verhouding was nie, is ek in ’n mate roekeloos.”

In daardie jare is Danie onverpoos ’n lojale lidmaat van die NG Kerk. By die Groote Kerk in Kaapstad was hy tot 1994 Sondagskoolonderwyser, diaken en ouderling. Daarna het hy standerd sessies gekatkiseer by die NG Kerk Tamboerskloof. “Ek is baie lief vir kinders en sou graag my eie wou gehad het. Ek gee al Sondagskool van standerd nege af en gebruik baie van my toneelondervinding in die klasgee-situasie. Dis steeds vir my fassinerend – dis soms al band wat jou aan jou geloof laat vasklou.

“Maar gelukkig is ek nie seksueel tot kinders aangetrokke nie. Ek probeer by kinders bloot ’n begrip tuisbring van homoseksualiteit. Ek sal byvoorbeeld ’n verheerlikende les gee oor die huwelik tussen man en vrou op die mees entoesiastiese manier en dan vir die kinders suggereer dat hulle nie moet spot of lag indien hulle met gays te doen kry nie. Hulle moet weet ’n homoseksueel kan gelowig wees. Die NG Kerk sê hy verwerp nie die mens nie, maar veroordeel die dade. En dis natuurlik onsin.”

Op grond van die artikel het die kerkraad hom namens verontruste ouers gevra om uit te tree.

Die boektitel Die Soft Rock Klub verwys na ’n Kaapse “draadtrekklub” waarvan hy die stigterslid was en hy skryf uit eie ervaring, vertel Danie aan Rachelle Greeff. “My boek is gerig op medegays, hoewel dit ook nie betrekking het op alle gay-belewenisse nie. Ek dink ek gee stem aan die middeljarige, Afrikaanse en juis Calvinistiese ou. Dis nie my bedoeling om mense op te sweep nie, hoewel sekere mense dit eroties prikkelend sal vind. Ander sal weer geskok wees. Baie mense kan homoseksualiteit met hul verstand beleef, maar sodra hul in direkte aanraking daarmee kom, dan kom hulle fobies uit. Dis ’n kant van die lewe waarvan die gemiddelde gelowige verkies om nie te weet nie.

“Ek wil sê: ‘Só is dit om gay te wees.’ Ek wil vra: ‘Kan ’n gay werklikwaar volkome gelukkig wees?’ En: ‘Wat maak hom anders?’ Ek wil vertel van die spanning in ’n mens om iets te wil doen, maar dit word op allerlei moreel-etiese gronde veroordeel.”

Hoe kon hy getrou bly aan ’n kerk wat ’n deel van sy menswees verwerp? Hy het byvoorbeeld ’n openhartige, pleitende artikel vir Die Kerkbode geskryf oor homoseksualiteit, ook soos beoefen binne kerkverband. Dié artikel is nie gebruik nie – net ’n swye het gevolg. “Al die wisselende uitsprake deur die eeue heen oor die aard van so ’n ‘alternatiewe’ lewenshouding, al die spannings by die gelowige homoseksueel – dui dit nie daarop dat homoseksualiteit ’n deel van God se raadsplan is wat ons nie verstaan nie? Ek dink dat ’n gelowige gay dit graag sal wil glo: dat God hom tog op een of ander manier anders beskou as wat die menslike Bybeluitleg dit wil hê.”

Die Soft Rock Klub verwys nêrens na vigs nie en dis nie dat Danie ongevoelig is daarteenoor nie; dis net dat hy geen ervaring daarvan het nie. Rachelle Greeff skryf in De Kat: "Maar hy verwoord ander gay-belewenisse op ’n manier dat dit vir jou dae bybly. Die een stuk skryfwerk wat nooit die lig gesien het nie, naamlik die gemelde rubriek wat hy aan Die Kerkbode voorgelê het, laat ’n mens óók dink. Wanneer gaan die NG Kerk die werklikheid volrond in die oë staar en sonder omhaal van woorde begin praat oor die pyn sowel as die plesier van die homoseksuele lewe?

Danie antwoord vir Rachelle: “Daar is ‘praktiserende’ homoseksuele wat gló in God. Hulle ervaar kontak met Hom. Hulle ken geestelike ekstase. As hulle hul oorgee aan promiskuïteit, sien hulle die negatiewe dinge wat met hulle gebeur – botsing met die gereg; afpersing; aanranding; gevoel van besoedeldheid, van vernedering; vrees; skuldgevoelens – as God se straf. Gelowige homoseksuele hou hulle dikwels blind vir die verdoemende Bybelse uitsprake; kleef liefs al die ander geloofswaarhede aan. Want as jy daardie uitsprake oordink, word dit nag vir jou siel.

“Maar intussen ervaar jy as homoseksueel wat in God glo, ook soveel genade van Hom. Al daardie verhoorde gebede ... Nee, soos Boerneef sal sê: Homoseksualiteit is ’n ding wat maar ammelee pla.”

Die Soft Rock Klub se 19 kortverhale is in vier afdelings georganiseer. Die eerste afdeling, onder die hofie “1950–1964”, bestaan uit ses verhale oor die karakter Jako se kindwees, seunwees en seksuele bewuswording. Daarna word die rituele van cruising aan die hand van ses verhale in afdeling twee uitgebou. Afdeling drie sentreer rondom “die Soft Rock Klub” waarop die titel slaan, ’n private seksklub wat deur die karakter Hannes geïnisieer is. Met die laaste afdeling sluit die bundel af aan die hand van drie verhale waarin die ongeïdentifiseerde “ek” nabetragting hou oor gefrustreerde verhoudings.

Christell Stander skryf (Karring, Somer 1995): "Hoewel daar tekortkomings in die bundel is, is Die Soft Rock Klub ’n belangrike leeservaring wat nie net aspekte van seksualiteit blootlê nie, maar ook een van die min tekste in Afrikaans (en ander letterkundes) is waarin die ontwikkeling van die manlike karakter ontgin word. Dit is ook ’n teks wat, vanuit die vertoonkas van die gay letterkunde, beantwoord aan die heersende lesersbehoefte in Afrikaans om geskok te word. En Botha is bedrewe genoeg in die boekbedryf om te weet: mense wat in glashuise woon, kan nie klippe gooi nie. Daarom is dit lékker skok, skok met herkenning, skok sonder om vervreem te word.”

Lucas Malan (Afrikaans Stereo, 6 September 1995) het geskryf dat emosionele skeiding sentraal in hierdie bundel is en deurgetrek word vanaf die eerste tot by die laaste verhaal. "Dit is naamlik die sielkundige ervaring van verwerping, en reeds in die eerste verhaal lees ons hoe die jong Jako onwetend so ’n toestand tussen hom en sy pa diagnoseer. Die Soft Rock Klub is nie ontspanningsleesstof nie, maar is ’n gefragmenteerde lewensverhaal van emosionele leemtes en genadelose selfkonfrontasie."

Volgens HP van Coller (Volksblad, 6 November 1995) is die klem in Danie se kortverhale op die traumatiese grensbestaan van die gay, soos by Koos Prinsloo en Hennie Aucamp. “Waar Prinsloo se werk verwysings na literatuur, literêre teorie, kuns en die psigologie veel meer opsigtelik gebruik, wek Botha se verhale die indruk van onmiddellike toeganklikheid.

“Tog bedrieg die skyn, want op subtiele wyse word aangesluit by talle Afrikaanse voorgangers. Verwant aan Aucamp is byvoorbeeld veral enersyds die fyn registrasie van die landelike wêreld en sy sosiale stratifikasie en andersyds die dekadente stadsbestaan. Ek bespeur ook verwantskappe met JC Steyn se Hoeke boerseuns ons was en Danie Botha se werk adem ook iets van die vroeë Leroux (veral Die eerste lewe van Colet) omdat dit nie net die ontwikkelingsgang van ’n jong sensitiewe seun skets nie, maar ook toon hoe die dinge wat verswyg en ontken word, welig tier te midde van die 'normale' en goeie.

“Die beskrywing van ’n traumatiese jeug waarin ’n onsimpatieke vader sentraal staan en die bykans grafiese beskrywing van homo-erotiese seks, roep weer die werk van Koos Prinsloo in herinnering, terwyl die asemtogte van Riana Scheepers en Jan Rabie in enkele verhale voelbaar is.” Van Coller noem dit ’n knap debuut.

Henning Snyman skryf in Die Burger (23 Augustus 1995): "Die gay-paradigma moet deurentyd ook gelees word as ’n matriks waarbinne die verhaal van geestelike vereensaming en weerloosheid ontvou word. En, soos Eugène Marais se ‘Skoppensboer’, hou die ironie en die wrange humor genadiglik die wag. Die ‘goddelike komiek’ voltrek hom nie net in die gay-lewe nie, almal leer ontnugtering en ontbinding ken. Die Soft Rock Klub is ’n puik boek, en is ’n belangrike toevoeging tot sowel die Afrikaanse gay-literatuur as Afrikaanse prosa en letterkunde.”

Danie vertel in ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht (Beeld, 31 Julie 1995) dat die stories in Die Soft Rock Klub almal outobiografies is. “Dis basies my ervarings, my lewensverhaal ingekleur in verskillende personasies. Daar is uiteenlopende reaksies op my boek. Party mense waarsku my en sê ek gaan probleme kry, ander bewonder my vir my moed, ander beskerm en bejammer my.”

"Daar was ’n tyd toe ek my homoseksualiteit weggesteek het en bang was dat dit ontdek word. Ek het egter al meer begin uitkom, en dit is nie meer vir my ’n risiko nie. Ek is ook emosioneel ryper. As ’n gay wat wil oopmaak, uitpraat en bieg, ontdek jy dinge oor jouself. Jy maak jouself oop vir jou mede-gays en sê vir hulle hulle is nie alleen nie, jy maak jouself ook oop vir straights, en hulle sê dit is nie ’n plesierige prentjie nie.”

Aan Emile Joubert (Die Burger, 11 Augustus 1995) vertel Danie dat die karakter(s) in sy stories meestal hy self is – die pikkie wat ’n bietjie liefde van sy pa soek. "Die man met die vreemde vriendekring en stigter van die Soft Rock Klub, ’n draadtrekklub wat hy in die negentigerjare in sy Hofstraatse woonstel bestuur het. Die weifelende Samaritaan. Hoewel ek graag sal wil dink dat elke storie sy eie siel het, is daar deurlopende temas wat, volgens my, die bundel in geheel versterk. En as ek dink aan die reaksie op die boek tot dusver, voel ek baie mense kan hulle met my lewe en my stories vereenselwig. Van my vriende het ná die lees van die boek met my begin praat oor eensaamheid en ontstellende gebeurtenisse in hul lewens. Ek twyfel of hulle dit sou gedoen het as die boek hulle nie kon raak nie. En is dit tog nie maar waaroor dit gaan nie, om jou hand of jou pen uit te steek en ander mense te raak?”

Danie begin in November 2002 die afdeling vir gay skrywers Gay@LitNet op LitNet en hy beskryf sy tyd daar as ’n opwindende en baie kreatiewe tyd, maar in Augustus 2006 het hy hom onttrek aan die webruimte as gevolg van sensuuraksies van die LitNet-topbestuur.

In 2003 was daar ’n polemiek op LitNet nadat die gospelsanger Danie Botha by die NG Gemeente Elsburg-Suid aan die Oos-Rand gesê het mense moet só geskok wees dat hulle hulself uit die homoseksualisme uit skrik en dat gays nie hemel toe sal gaan nie. Danie het dadelik vir Danie, die sanger, geantwoord en dit het die polemiek aan die gang gesit.

Ook in 2003 was daar ’n briefwisseling tussen die akteur en regisseur Albert Maritz en Danie op LitNet oor Albert se stuk “Die Afrikaanse teater: apatie en (hopelik) daarna” en veral oor Albert se stelling dat Afrikaanse teater nie meer in aanmerking kom vir die “Fleur du Caps of watter toekennings daar nog ook al is nie”. Danie, wat gedurende daardie tyd ’n beoordelaar van die Fleur du Cap-toneelpryse was, het hierop gereageer.

In 2006 word Danie se boek oor die beginjare van die beroepstoneel in Suid-Afrika, Voetligte en applous!, by Protea Boekhuis uitgegee. Hoewel die boek ’n historiese lyn het, is dit meer ’n boek van anekdotes. “Ek probeer die hele proses van die beroepstoneel van 1925 tot omstreeks 1948 beskryf. Van die oudisies, regdeur tot by die reis tussen dorpe, die opvoer in kerksale en akteurs wat in plaasdamme moes bad. Ek wou graag oor almal uit daardie jare skryf, maar het besef dit sou onmoontlik wees. Ek het uiteindelik besluit om oor die pioniers te skryf. Oor Wena Naudé, Lydia Lindeque, die Hanekoms en meer.” (Volksblad, 26 Mei 2006)

In haar resensie het Madeleine van Biljon (Die Burger, 28 Februarie 2007) geskryf dat Botha ’n keurig-versorgde geskiedenis met talle foto’s (daar kon meer gewees het) en ’n nuttige indeks bied wat vir enige toneelbelangstellende ’n ongelooflike inligtingsbron is. “Die boek getuig van nougesette navorsing en Botha kan net gelukgewens word met ’n baie meer as net ’n knap stuk werk. Myns insiens sou dit kan dien as ’n tesis vir ’n graad. By gebreke aan so iets, verdien hy elke woord van waardering wat na sy kant kom en is die paar stukkies kritiek wat ek sou hê, blote vlieëvangery.”

JL Coetzer skryf in Literator van Augustus 2006 dat Voetligte en applous! beskou kan word as ’n voortsetting van FCL Bosman se Drama en toneel in Suid-Afrika en ’n aanvulling tot LWB Binge se Ontwikkeling van die Afrikaanse toneel 1832 tot 1950. “Enkele ander oorwegings beklemtoon die verdienste en noodsaak vir die publikasie van Voetligte en applous! verder. Botha het, eerstens, in sy navorsing van bronne gebruik gemaak wat moeilik bekombaar of ontsluitbaar sou wees. Dit sluit koerantknipsels in wat vanweë hulle ouderdom nie in openbare, elektroniese argiewe beskikbaar is nie, ongepubliseerde dokumente (verslae, dagboeke en ander) in NALN se Bloemfontein-versameling, die Dokumentasieversameling van die JS Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch, ensovoorts, en selfs herinnerings deur spelers en kennisse, wat op versoek van die outeur geskryf is of met wie onderhoude gevoer is.

“Die outeur het, tweedens, nie net van skaars bronne gebruik gemaak nie, maar uitvoerig daaruit aangehaal – tot drie bladsye op ’n keer. Veral in die geval van NALN- en ander argivale dokumente is dit ’n welkome werkwyse, omdat hy daardeur bronne wat slegs binne NALN gebruik kan word vir sy lesers toeganklik gemaak het. Daarby dra die veelheid van perspektiewe wat uit die dokumente spreek, by tot die geskakeerdheid van die menings. In sommige gevalle stel hy teenoorstaande standpunte direk na mekaar aan die woord.

“Dit beteken, derdens, nie dat Botha as blote kompilator opgetree het nie. As die onsigbare hand (organiserende instansie) is sy teenwoordigheid in die manuskrip onder andere merkbaar in die keuse en organisasie van die grondstof. (...) Voetligte en applous! bied ten slotte, nie net ’n beeld van ‘[b]eginjare van die Afrikaanse beroepstoneel’ nie (luidens die newetitel), maar ook ’n spieëlbeeld van ’n kultuurgroep en gehoor op ’n bepaalde tydstip: berug én irriterend om sy laglus tydens gehoorsituasies, aangrypend om sy naïwiteit wanneer die gehoor verhoogwerklikheid en -personasies met hulle eie werklikheid en bekende (historiese) persone verwar, in opvoerings waarin Ampie sy hart teenoor ’n donkie uitstort, op ’n verhoog waarvan die gordyne en rekwisiete/meublement by die gehoor vir die aand geleen is.”

Hierdie toneelboek lê vir Danie baie na aan die hart en hy vertel aan LitNet dat hy baie aangename herinneringe aan die navorsing en skryf daarvan het. “O, die opwinding om by NALN deur die talle leggers te werk! Buite ’n ysige koue, ligte sneeu selfs, en hier voor ’n verwarmer gaan jy in in die verlede van die pioniertoneelspelers se leed, avonture en prestasies. Kort-kort iets wat jy ontdek waarvan jy weet dis nog ’n interessante stukkie van die legkaart. Ek het geweldig lief geword vir Bloemfontein. Ook meevoerend om in Die Burger se stokou ingebinde koerante op ’n Saterdagmiddag die verlede te herbeleef. Om teleurgesteld te wees as jy lees ‘Van Zyl verdwyn van die toneel’ en dan is dit ’n ou wat ’n verkiesing verloor het. Jeanette Ferreira het gesorg dat ek die boek so vakkundig moontlik maak en Martjie Bosman het tot die eindstreep met my geloop. Ja, ek het ongeduldig geword oor die lange swangerskap, maar die einde was wel salig met al die bekendstellingsgeleenthede tot op Prince Albert en Calitzdorp.”

Deborah Steinmair (op LitNet) vra Danie as redakteur van Gay@LitNet in 2004 onder andere of hy ’n Zen-agtige plato van innerlike vrede bereik het en of sy lewe meer uitgesorteer is as byvoorbeeld tien jaar gelede en indien dit wel so is, hoe het hy daarby uitgekom? “Onseker. Kan maar steeds soms hel-uit depressief raak. Kan ’n LYS opstel van dinge wat my grensloos irriteer. Vroeër was ek vol verlangens, vrese, inhibisies, stres; deesdae raak ek doodgewoon kwaad, gee my byvoorbeeld oor aan e-pos-woede. Fisieke veroudering, tanende libido, die feit dat ek as afgetredene en vryskut dinge doen waarvan ek hou – ja, dit dra heelwat by tot gemoedsrus.” Sy ideaal daar in 2004 was om “weg te kom uit die middestadwoonstel en saam met ’n stabiele, redelik gekultiveerde en Afrikaanssprekende ou in ’n voorstadhuis te gaan woon. Wag aansoeke in. Hulle sal moet kom vir oudisies soos destyds met die draadtrekklub.”

Oor wat hom laat lag het Danie as volg gereageer: “Iemand wat iets uit eie ervaring vertel en dan die karakters veral stemgewys naboots. Haat toilet- en selfs seksgrappe.”

Wat verskaf aan hom die grootste mate van werksbevrediging – akteur of regisseur? “Ek wás dit en hoofsaaklik op amateurvlak. Is moeilik om te besluit. Dalk regie? Maar die adrenaliensituasies van self speel? Maar hoe goed was ek werklik met albei? (...) Ek voel dat ek as ouer man tans beter werk lewer omdat ek minder gespanne is. Vir die radio is ek altyd skurke of karakters met baie fisieke aksie! Sal so graag sensitiewe oujongkêrels of dominees wil speel.”

Danie vertel in 2010 aan LitNet: “Uit ondervinding met Homeros weet ek dat die gayletterkunde moeilik is om te bemark. Daar is soveel voorbehoude en verskille van opinies by die letterkundiges, skrywers, redakteurs, boekhandel en binne die gaygemeenskap self. Dit gee nou aanleiding tot iets waaroor ek op die oomblik nog nie helderheid het nie. Ek skryf graag oor my kinderdae of sake wat dan tot ’n meer algemene mark kan spreek; maar ek het ook die gay ervaringswêreld wat ek wil en kan deel met ander geesgenote. Ek twyfel of ek ’n bemarkbare boek sal kan maak met albei verwysingsraamwerke saam daarin. Ek wou dit nooit teenoor myself erken het dat die lang ure se keur, redigeer en proeflees van ander se werk my eie skryfwerk erg verhinder nie. Maar daar is iets van waar. My produksie is dus klein en daar’s nie juis ’n stimulus tot gayverhale in boekvorm nie. Die enigste uitkoms is LitNet. Ek het sedert 1981 verskeie kortverhale vir volwassenes en kinderverhale in versamelbundels, in tydskrifte (Tydskrifte vir Letterkunde, Sarie, Rooi Rose) en op LitNet gepubliseer wat ek sou kon bundel.”

Met Danie se sestigste verjaardag in 2007 het Charles Fryer (Die Burger, 28 Februarie 2007) hom as ’n volronde, komplekse mens beskryf wat bo alles die drang tot diensbaarheid uitleef. “Hy raak baie entoesiasties oor dinge wat hom na aan die hart lê, en sy kinderlike opgewondenheid is aansteeklik. Danie kan ook onthutsend eerlik wees. Maar of sy oë blits van woede of blink van ­­ver­tedering, die mense wat hom ken, wil hom niks anders hê nie. Vir my is hy ’n kosbare, kostelike, lojale vriend met wie jy oor enigiets kan gesels: van stront tot die hoogste sin, van enigiets op hierdie ou aarde tot by ‘die berg wat donker staan’. Danie is ’n vriend vir alle ­seisoene.”

In Augustus 2011 ondergaan Danie ’n drievat-hartomleiding. En op 24 November 2011 was hy op sy pos toe hy en Wium van Zyl deur die ATKV vereer is met oorkondes. Die motivering vir die toekenning van die oorkonde aan Danie is deur JD Gouws (destyds besturende direkteur van die ATKV-groep) gelewer: “Vir sy groot bydrae as redakteur van hoogaangeskrewe Afrikaanse letterkundige publikasies asook vir sy bydrae tot die Afrikaanse toneelwêreld (onder andere as hoorspelakteur) en as skeppende skrywer in Afrikaans.

"Sy bydrae om die Afrikaanse taal op bogenoemde wyse uit te bou en te ontwikkel word hoog geag en ondersteun die ATKV se visie ter bevordering van ’n suksesvolle Suid-Afrika waarin Afrikaans ’n onmisbare rol speel."

Danie vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 9 Desember 2011) dat hy graag soos PG du Plessis se Tiemie “van geweet wil wees”. "Ek dink daardie ding van ek wil van geweet wees, is dalk onderliggend dat ek toneel gespeel het ten spyte daarvan dat ek nie werklikwaar ... wel, ek het sukses gehad as toneelspeler ook, maar by die radio het ek agtergekom dat dit nie vir my maklik kom nie.

"Byvoorbeeld ek het ’n lettervrees gehad. As ek sien daar is ’n stukkie in die teks waar daar nou ’n 'td' is, dan het ek ’n vrees gehad en dan haak ek vas by daardie woorde. By Springbokradio het ek baie gespeel. Toe ontdek Bennie Fritz ek kan goed huil. En toe is ek altyd die skurke wat huil. Dan was dit lekker, want dan hoef ek nie bekommerd te wees as ek oor my woorde val nie.

"Ek het as kind gehakkel. Nie erg nie, maar ek het gestotter. Maar deesdae vind ek met die ouderdom is ek rustiger en het ek nie daai spraakprobleem nie."

Sedert 2014 werk Danie op vryskutbasis vir Protea Boekhuis en Naledi-uitgewers, hoofsaaklik betrokke by die redigering van publikasies. In 2015 stel hy die bundel oor Hennie Aucamp, Om Hennie te onthou, saam en in 2018 is hy ook betrokke by die uitgee van Charles Fryer se passiespel Só moes die liefde ly.

In 2014 gee Tafelberg Uitgewers Die helder dae uit. Die subtitel is Outobiografiese verhale, rubrieke en essays.

Op LitNet skryf Kerneels Breytenbach oor Die helder dae: "Die geslagte van die toekoms sal Die helder dae beskou as kleinood, ’n versameling kosbare inligting oor die lewe aan die Kaap van Storms in die jare veertig tot vroeg-21ste eeu. Dit bou ’n beeld van die groot verskeidenheid mense wat almal bygedra het tot die kulturele sfeer van dié tydperk, soos vertel deur iemand wat gelukkig genoeg was om daardie mense almal te geken het. Vir die studente van die letterkunde en toneelkuns sal dit ’n onvervangbare verwysingspunt word.

"Vir die tydgenootlike leser is daar ander vondste. Ek was gelukkig genoeg om Danie Botha in die jare sewentig te leer ken toe ek by Die Burger begin werk het en hy by Tafelberg-Uitgewers was. Hy was die een wat die versugting uitgespreek het dat Die Burger ook aandag aan amateurtoneel moes gee, en Leendert Dekker voorgestel het as resensent daarvan. Dit het goed gewerk, totdat ek deur ’n sameloop van omstandighede (Dekker kon iets nie resenseer nie, en Danie het ons uit ons nood verlig) ontdek het dat Danie as resensent dit is wat vandag as “the real deal” beskryf sou word.

"Later het hy ook rubrieke vir die kunsblad geskryf, hoofsaaklik oor die dinge wat hom geïnteresseer het: die letterkunde en teater. En so met die verloop van tyd, nadat ek uitgewer geword het, het ek begin dink ek ken Danie Botha goed.

“Ek was verkeerd.

"Die helder dae is ’n versameling outobiografiese tekste wat vantevore in koerante, tydskrifte, bloemlesings en op LitNet verskyn het. Botha het ter wille van die geheelbeeld artikels bygeskryf. Sodoende kry ons ’n indringende en omvattende blik op ’n heel besonderse lewe. (...)

"En tog kan mens maar begin soek na ’n geseur oor die negatiewe dinge van die lewe; jy sal dit nie kry nie. Die titel van die boek is Die helder dae, wat dit uitdruklik uitspel dat hy nie wil skryf oor die dae waarin die lewe se somber, depressiewe sy jou oorweldig nie, maar oor daardie dae en tyd wanneer jy die helderte van skoonheid, genot, naasteliefde ens ervaar. Die helder dae is in ’n majeursleutel geskryf. (...)

"Vir my was die verrassing die insluiting van sy bydraes tot Die Kerkbode. Botha se lewe is gerig deur sy godsdiens, maar hy was nog nooit iemand wat daardie aspek in die gesigte gevryf het van die mense wat by die werk met hom saamgeleef het nie.

“Wanneer mens kyk na baie van die stukke wat hy in die jare negentig en later vir Die Kerkbode geskryf het, gryp hy terug na insidente en dinge uit sy jeug en beroepslewe, en leer ken jy sy innigheid, sy warmte en medemenslikheid.

"Deur die jare het ek sy knorrige sy al beleef. Die helder dae wys hoeveel méér daar is."

Ook Herman Lategan (Beeld, 16 November 2014) komplimenteer Danie Botha met Die helder dae en hy sluit sy bespreking af: "Die lys van mense (in Die helder dae) is soos ’n spyskaart vol wonderlike 'mensdisse' en dit is ’n plesier om so lekker oor elkeen te lees. Soos die flapteks sê: 'Enige leser wat belangstel in die Afrikaanse letterkunde en teater, op watter vlak ook al, sal Die helder dae insiggewend en besonder onderhoudend vind."

Schalk Schoombie is die resensent van Die helder dae in Rapport van 7 September 2014 en ook hy is getref deur Botha se herinneringe aan dae, mense en gebeure. "Die geheelbeeld van ’n kindertyd, skooldae, ’n loopbaan as Tafelberg-uitgewersredakteur, toneelresensent en afgetredene kan hier – gegewe die titel – verbasend donker opdoem. Hierdie herinneringe word bevolk met skadu's, swaar en seerkry.

"Só word daar onbevange vertel van onvervulde hunkering om aan ’n Kerskonsert deel te neem, net om bruusk weggewys te word, van armoedige grootwordjare, karige Kersgeskenke, in later jare erge depressie, asook selfbeeld- en gewigsprobleme. Die versugting van die alleenloper kom ook aan die bod, asook insidente van aanranding op straat, frustrasies met lawaaierige bure, ensovoorts. (...)

"Die helderheid van die titel setel in die skerp terugroep van vergange rituele, plekke, mense en vormingsmomente, in fyn aandag aan detail met welgekose woorde wat as ’t ware die verlede uit die newels laat herrys. (...)

"Die gevoelige, onbeskroomde taalgebruik, wat spreek van dekades as toegewyde taalman, verleen aan elke storie ’n skreiende onmiddellikheid en poëtiese eerlikheid wat aan die hart gryp. (...)”

Schoombie verwys na Botha se essays, huldeblyke en vinjette oor skrywers en outeurs, “immer met deernis en humor benader”, van belang is vir liefhebbers van die letterkunde en uitvoerende kunste, en “selfs as waardevolle Africana aangeteken [kan] word. Die skrywer se die liefde vir die geskrewe en gesproke woord spreek helder uit elke bydrae. (...)

"Die helder dae, met groeiende helderheid te midde van donker én ligbestraalde dae, is ’n beleë boek wat die leser meevoer, byna laat voel jy ken dié vrygewige skrywer as mens van binne en buite, nes ’n troue vriend met wie jy kosbaarhede deel."

Danie vertel aan LitNet dat hy "volgens die reëls" op Sondag 2 Augustus 2015 net ná 14:00 by die aftreeoord in Bellville Huis André van der Walt ingetrek het. Ook daar sit hy nie stil nie. Sy eerste werk nadat hy daar ingetrek het, was die proeflees van Die beste spookstories van CJ Langenhoven wat toe in ’n klein formaat uitgegee is. Margot Luyt het van die verhale laat voorlees in die radioprogram Kortom. Hy lewer ook gereeld bydraes op Fine Music Radio in Kaapstad en skryf resensies vir LitNet.

Sêgoed van Danie Botha

Na die verskyning van Die Soft Rock Klub: “Die feit dat ek eksplisiet skryf, hang saam met daardie deel van die gay psige om uit te flap – maar dan moet ek dadelik bysê dat hierdie een van die baie stereotipes is wat oor gay mense bestaan. Ondanks die stereotipes bly gay mense uiteindelik almal individue.” (Beeld, 31 Julie 1995)

Oor die kontroversie rondom Die Soft Rock Klub: “Wat help dit ek probeer myself verdedig? Ek weet waar ek staan met my geloof en hoe ek daaroor voel. En terselfdertyd is ek nie skaam oor die onderwerp van my boek nie.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

“Maar die wag vir die resensies is hel. (...) As toneelkritikus het ek my al dikwels in die skoene van die akteurs geplaas, gewonder hoe hulle oor kritiek voel. Miskien die dag gevrees dat ek self aan sulke kritiek en ontleding onderhewig sou wees.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

Soek hy nie resensies nie? “Nie slegtes nie! Nee, resensies is ’n noodsaaklike euwel en as redakteur weet ek dis meestal goeie publisiteit net om ’n boek se titel en ’n skrywer se naam in druk te sien. Ek weet watter emosies ek in my boek gesit en waarom ek oor sekere dinge geskryf het. Daardie dinge wil ek met die lesers deel, daarom is ek bang lesers sien dit nie raak nie. Of miskien sien 90 persent dit raak, maar ek hoor dalk net van die resensente wat nie my idees oor die boek deel nie. Miskien sien ek dit op te ’n intieme en persoonlike vlak.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

“My lewe is die vak wat ek die beste ken en die helderste oor kon skryf.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)

Oor die gayterrein (in 2004 aan Deborah Steinmair op LitNet): “Jy sal my nie in 'n gaykroeg of -klub kry nie; ek sterf voor ek fopdos; ek voel my nie tot gaytrotsparades gedrewe nie. Maar ek staan nie veroordelend daarteenoor nie. Jy sal my wel by Adult World se ‘video lounges’ of die minder ‘prissy’ gaystoombaddens aantref. In die ou dae op Sandy Bay en Graaff se Poel. Dis deel van die opwinding van Gay@LitNet: om al hierdie fasette van die gaylewe onder woorde te kry. Ons is in sekere opsigte nes die straights, maar in ander opsigte beslis anders, of vermoedelik anders. En as ons dan in groepsverband optree, kan jy die saligheid van ondersteuning, identifisering en geesgenootskap ervaar. Maar, og, soms kan 'n mens ook baie ‘uit’ voel tussen die klomp. As hulle jou eers met daardie harde visoë aankyk, as jou soort humor in kille stilte ontvang word ...” (LitNet, 20 Julie 2004)

Weer Deborah Steinmair in 2004: “Jy is kort na die Tweede Wêreldoorlog gebore en het die geboorte van die rekenaar en die wêreldwye web meegemaak, interessante tye voorwaar. In watter eeu sou jy wou leef as jy kon kies?” Danie: “In die jare sestig en sewentig van die twintigste eeu toe ek nog lekker patrioties kon raak met ’n volkslied, landsvlag en die FAK-sangbundel, met geestelike oorgawe na die dienste van die NG Kerk kon gaan, toe dit makliker was om wit, manlik en Afrikaans te wees, sonder die huidige gewetenskwessies en die ontstellende sedelike en politieke toestande. Maar, ja, ek moet terselfdertyd vra vir ’n rekenaar, e-posse en seksvideo’s. En DStv om sawends na Nederland toe te ontsnap.” (LitNet, 20 Julie 2004)

Watter vier historiese of lewende persone sou hy vir ete wou uitnooi? “Tennessee Williams, Anton Tsjechof, Stef Bos en die bleskop-weervoorspeller op BVN. As van hulle nie kan kom nie: Kenneth Tynan, Lucas Malan of Daniel Hugo.” (LitNet, 20 Julie 2004)

In 2007: “Ek weet hoe verskriklik dit is vir amateurtoneelspelers om negatiewe kritiek te kry, en my doel is om soveel as moontlik regverdig en omvattend daaroor te skryf. En ek probeer altyd, as ek byvoorbeeld ’n problematiese speler het, om ook iets positiefs oor hom te sê, saam met die negatiewe. My goeie wil is daar.” (Die Burger, 28 April 2007)

Oor sy navorsing by NALN: "O, die opwinding om by Naln (Bloemfontein) deur die talle leggers te werk. Buite ’n ysige koue, ligte sneeu selfs. En hier voor ’n verwarmer gaan jy in die verlede van die pionierspelers se leed, avonture en prestasies. Kort-kort-iets wat jy ontdek waarvan jy weet dit is nog ’n stukkie van die legkaart." (Die Burger, 9 Desember 2011)

Publikasies:

Publikasie

Uil in die pad

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624016501 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Soft Rock Klub

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033996 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Voetligte en applous! Die beginjare van die Afrikaanse beroepstoneel

Publikasiedatum

2006

ISBN

1869190904 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Toneelgeskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die helder dae

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624070122 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Memoires

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Danie Botha as samesteller

Artikels oor Danie Botha op die internet

Artikels en skeppende werk deur Danie Botha op die internet

Bronne
Baie dankie aan Danie Botha vir sy insette.


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2019-12-04
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

The post Danie Botha (1947–) appeared first on LitNet.

PW Buys (1923–1999)

$
0
0

PW Buys

Gebore en getoë

Pieter Willem Buys is op 15 Oktober 1923 in Germiston in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) gebore. Sy ouers was Karoomense. Sy moeder was ’n nooi Du Plessis van Philippolis en sy vader ’n Steynsburger. Hulle het na ’n plaas tussen Brakpan en Heidelberg verhuis toe Pieter nog ’n jong seun was.

Pieter het in Brakpan en Bronkhorstspruit skoolgegaan en in Bronkhorstspruit gematrikuleer.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Pieter het sy naskoolse studie aan die Potchefstroomse Universiteitskollege in 1941 begin – die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het die grade BA, BD, ThM en ThD (in 1970) aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes-Universiteit) behaal. Hy was met Lulu getroud; sy is in 2001 oorlede. Die egpaar het vyf kinders gehad: twee seuns, Gerrit en Johan, en drie dogters, Mietsie, Susan en Louise.

Vanaf 1948 tot 1950 is Pieter predikant in die Gereformeerde Kerk op Theunissen in die Vrystaat. Saam met die gemeente het hy die groot ontwikkeling op die Vrystaatse goudvelde meegemaak.

In 1950 is hy na Kroonstad (ook in die Vrystaat) en was vanaf 1953 tot 1966 leraar van die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom. Tydens sy bediening daar is ’n nuwe kerkgebou in gebruik geneem. Hy het in 1961 drie maande lank in Nederland gewoon, waar hy aan sy doktorale studie gewerk het.

In 1966 is hy na die Noordbrug Gemeente in Potchefstroom, waar hy predikant was tot 1973.

Vanaf 1973 tot 1988 was hy professor in die etiek en apologetiek aan die Teologiese Skool in Potchefstroom en aan die PU vir CHO, waarna hy rektor van die Teologiese Skool in Potchefstroom geword het, tot 1985. Vanaf 1981 tot sy aftrede in 1988 was hy hoof van die Departement Dogmatologiese Vakke.

In 1979 het Buys, in opdrag van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerk, die teks van Totius se Psalmberymings hersien. Hy het die teks van die Totiusberymings so ver as moontlik behou en slegs die ou Nederlandse vorme met nuwer Afrikaanse woorde vervang. Hierdie hersiening wat hy pas voor sy dood voltooi het, moet nie met die nuwe Psalmomdigtings verwar word nie.

Ná sy emeritering in 1988 het hy met pastorale versorging van bejaardes in drie Potchefstroomse aftreeoorde begin, ’n liefdestaak wat hy verrig het tot sy afsterwe in 1999.

Met sy emeritaat in 1988 is ’n bundel wetenskaplike opstelle vir hom aangebied onder die titel Waar die paaie saamwoon. Onder bekende teoloë wat studente van Buys was, tel onder andere Fika van Rensburg, Herrie van Rooy, Paul de Bruyn, Koot Vorster en PP Kruger.

PW Buys het deur die jare talle artikels in wetenskaplike en kerklike tydskrifte en boeke gepubliseer. Hy was ook vir baie lank redakteur van die Christelike kinderblad Slingervel. Benewens wetenskaplike artikels deur hom het van sy verse ook van tyd tot tyd in Tydskrif vir Letterkunde en Stiebeuel verskyn.

Buys het in 1977 met die digbundel Pleroma gedebuteer. Die titelwoord is ’n godsdienstige term wat beteken dat God alomteenwoordig is in die skepping.

’n Bundel wetenskaplike opstelle word hom aangebied met sy emeritaat getiteld Waar die paaie saamwoon. Bekende teoloë was studente van Buys, onder andere Fika van Rensburg, Herrie van Rooy, Paul de Bruyn, Koos Vorster en PP Kruger.

Pieter het deur die jare talle artikels in wetenskaplike en kerklike tydskrifte en boeke gepubliseer. Hy was ook vir baie jare redakteur van die Christelike kinderblad Slingervel. Benewens wetenskaplike artikels deur hom het ook van sy verse van tyd tot tyd in Tydskrif vir Letterkunde en in Stiebeuel verskyn.

Pieter het in 1977 met die digbundel Pleroma gedebuteer. Die titelwoord is ’n godsdienstige term wat beteken dat God alomteenwoordig is in die skepping.

"Die gedigte in die bundel is in sewe afdelings (sewe is die Bybelse volledigheidsgetal) tuisgebring en dit wil tesaam duidelik maak hóé God alomteenwoordig is in Sy skepping. En dan tref dit ons dat ook Buys se poësie ons uiteindelik uitbring by die organiese gedagte wat ons teëkom by ander digters, soos Van Wyk Louw, DJ Opperman, Herman Gorter en Totius, vir wie die organiese samehang van dinge in God hulle oorsprong het, soos ook vir Buys. Ons het hier nie met invloed te make nie, maar met diepe verwantskap," volgens die resensent (onbekend) in Junie 1978 se Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

“Buys se organiese, pleromatiese kyk op mens en wêreld, mens en skepping, is wesentlik digterlik en ’n vormkrag. Vanweë die pleromatiese samehang van dinge kan uiterstes met mekaar saamgaan, soos die heerlike en liriese ‘Amelita Galli-Curci’ en die pragtige singende ‘Meidjie’ wat spontaan saamhoort met die vroue in pyn in die afdeling ‘Vroue’. Wat boei in Pleroma is wat ons kan noem die veranderlike perspektief, maar die konstante resultaat. (...)

“Die lewensvolheid en egtheid van die bundel lê vervolgens daarin dat ook die onsekerhede van die mens, sy ‘gemis’, sy pyn en verdwaaldheid in ’n soms ontgrensde wêreld (‘My plaas se grens’) in hierdie gedigte onder woorde gebring is. En ook in die geval van die pyn byvoorbeeld is gewone daaglikse dinge, die ‘voorhande’ dinge, weer eens die vertrekpunt van ’n ervaring wat ver uitreik, soos in die merkwaardige ‘Kleiosse’, waar die seun se skurwe winterwond, wat ontstaan het omdat hy kleiosse gemaak het, uitgroei tot die pyn van die mens. (...)

“Oor die gaafheid van die vers in Pleroma hoef mens nie te twyfel nie. Dié is daar. Gaan luister maar na die gang van die ritme in die slot van ‘Tornado’ of die delikate klank en ritme in ‘Meidjie’. Met groot gemak is die verse geskryf in Pleroma wat so ’n vol werklikheid dra van groot en klein, naby en oneindig verre dinge, en dit is juis in hierdie laaste, groter strukture dat Buys uitmunt.”

Buys se tweede bundel, Wit korbeel, is in 1987, presies tien jaar na Pleroma, gepubliseer. Jacques van der Elst (Die Vaderland, 30 November 1987)  was verras deur die hoeveelheid verskillende temas en motiewe in die bundel omdat ’n mens kon aanneem ─ siende dat die digter ’n teoloog is ─ dat die meeste gedigte godsdienstig van aard sou wees. Daar is wel ’n sterk godsdienstige ondertoon, maar dit is nie al nie.

"Baie van die gedigte reik uit na die bestaan van die mens as fyn beskouer van die natuur en deelnemer aan die alledaagse dog uiteenlopende ruimtes: Tomstraat in Potchefstroom, die Sinoiagrot in Zimbabwe, die stadsbeeld van Chicago, die Komiteekamer, Pafuri by die groot Luvuvhu, die studeerkamer met die staander van sy  leeslamp.

“Religieuse poësie het soms ’n inherente gestremdheid – enkele gedigte is nie heeltemal vry nie – omdat daarin dikwels te veel en te persoonlik bely en getuig word, meestal met die doel om te evangeliseer tot aan aanvaarding van die heilsgebeure en die geestelike verlossing van die mens. Hierdie oorreding tot aanvaarding geskied soms ten koste van estetiese waarde en oorspronklikheid van segging.”

"Die bundel verken ’n verskeidenheid temas: (a) die wêreld as 'vindplek' van die poësie; (b) die vraag na die waarom van die bestaan van die gebrekkige en invalide mens; (c) die besinning oor die sterflikheid van die mens en terminale siektes met ’n ironiese verwysing na die onuitroeibaarheid (onsterflikheid?) van die kankersel; (d) die predikant en die resepsie van sy preek met die besonder vindingryke beeld van die stom parkeermeter."

Vir Van der Elst is Wit korbeel ’n bundel wat baie leesbaar is, nie net vir die akademiese leser nie, maar ook vir die man op straat wat ’n voorliefde vir die poësie het. “Tussen die vele debute van ‘angry young men’ is dit ’n oase van rypheid en besinning, die produk van ’n digter met ’n wye lewenservaring wat nie grootdoenerig en eksperimenteel verwoord word nie. Daarom moet ’n mens nie in hierdie bundel eksperiment, baanbrekende rewolusionêre styl en verstegniek soek nie. Dit beteken nie die bundel is kleurloos nie. Inteendeel, dit bevat baie verrassende woordspelings en woordvondste, verryk met boeiende paradokse en klankwerkings.”

Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is ’n korbeel die “uitstekende stuk in ’n muur waarop ’n balk rus, kraagsteen”. En die vers wat volgens Joan Hambidge (Beeld, 30 November 1987)  die titel die beste omskryf, is die slotvers in afdeling sewe, “Mag ek?” (bladsy 69):

Mag ek die houtkosyne wees
die drumpel waar u voet op trap
– In elke spoor ’n druppel bloed?

Mag ek die dak wees oor u kop,
die kraagsteen wat die balke stut,
die binnekamer van u hut?

 Die bundel het Hambidge aangenaam verras en sy is van mening dat meeste van die verse die lesers daarvan sal boei. "Daar is egter verse wat soms woordtempering kort, maar die mooiste verse in hierdie verdienstelike bundel vergoed vir die insinkings."

Vir Daniel Hugo (Volksblad, 14 Mei 1988) was Wit korbeel een van die onderskatte bundels van 1987. Waar die verse in Pleroma ietwat stram en formeel was, is die verse in Wit korbeel meer beweeglik en klankryk. "Ek het veel plesier gehad aan die talle sjarmante gedigte van hierdie ondogmatiese professor. Wit korbeel sal vir die leser wat verslae staan voor die hermetiese en/of akademiese aard van die destydse Afrikaanse poësie, ’n aangename verrassing wees. Hy haal die gedig 'Rooivink' as prikkel aan:

Die rooivink gooi
’n rooi vonk in die riet,
’n vuurkool in die geil kanet.
Hy vlieg op uit die plaat palmiet.
Sy vlerkies sprinkel splinters lig.
Hy fladder vlamrooi in die lug
en val ’n gloeistreep na sy nes
van droë gras.
Hy speel met vuur
Dié voël.

"Straks steek hy nog die wêreld aan die brand."

Elf jaar later, in 1998, is Pieter se derde (en laaste) bundel, Van sigbare en onsigbare dinge, gepubliseer, ter viering van sy 75ste verjaardag.

Op haar blogspot, Woorde wat weeg, is Joan Hambidge van mening "dat ’n letterkunde ook sy kleiner stemme nodig het, digters wat dikwels nie op die voorgrond staan nie, maar wat ’n onthoubare klein gedig skryf of gewoon net deel vorm van die hele tapisserie van ’n digkuns. PW Buys is so ’n digter. Hy is ’n hedendaagse Totius, ’n digter wie se gedigte nog altyd vir Hambidge beïndruk het vanweë hul eenvoud dog vormvastheid. Dit is gedigte wat handel oor die mens se aardse bestaan en metafisiese bestekopname.

"Buys begryp die groot kuns om steeds oor abstrakte sake soos die dood, siekte, die metafisika en dies meer konkrete gedigte te maak. Dit is ook ’n bundel wat getuig van baie jare se leef en nadink. Daar is ’n skerp oog op die menslike lyding, op siekte (die slopende ervaring van kanker), oudword en die dood. Ook kan die onbetwiste invloed van TT Cloete op ’n tegniese vlak gesien word: die rymbeheer in ’n gedig soos 'Die dowwe lamppit' en ook die enumerasie van die gewone en die sublieme. Buys se gedigte spreek ’n mens aan omdat daar niks vernaams of pronkend intellektueel aan hulle is nie. Tog getuig die gedigte van tegniese vaardigheid en van ’n besliste nadink oor kwessies soos vorm-tug. ’n Mens sien hier die hand van ’n wyse, ou man wat ook met sorg rekenskap gee van die funksie van die poësie.

"Ook die nederigheid van die skryf van poësie word geplaas teenoor die almagtigheid van die Goddelike, soos in 'Suikerbekkies':

Groen suikerbekkies in die son
vol soet geluk oor hom
onnodig om hom neer te skryf,
hy is by voorbaat ’n gedig:
vuurrooi, bitter aalwynblom!

"Die digter wil kennelik gemeet word aan die Rilke-uitspraak dat gedigte maar min werd is as dit vroeg in die lewe geskryf word. (Dit is natuurlik nie altyd waar nie, skryf Hambidge. ’n Mens dink hier byvoorbeeld aan Rimbaud en Verlaine, en ons eie Antjie Krog en Theunis Engelbrecht.) Die wins van ouer poësie is natuurlik dat dit ontdaan is van jonger sentimente.

"Soms is die gedigte steurend en aangrypend, soos in die behandeling van kanker; ander kere is dit klein waarnemings, maar tog gevoelig, soos 'Naamloos' toon:

Twee duiwe het van die nes af opgevlie –
die een het teruggekom, die ander nie.
Twee bome het jare saamgegroei –
dié lente staan net een in bloei.

"Die digter skryf beeldend, en deur sy goedgekose beelde dra hy sy boodskap oor sonder dat dit prekerig raak."

In sy resensie skryf Jan Swanepoel (Woord en Daad, Herfs 1999) dat die titel van die bundel, Van sigbare en onsigbare dinge, boekdele spreek, veral as die twee sitate voorin die boek daarmee saam gelees word. "Enersyds word daar aan die hand van die sitaat uit 2 Korinthiërs 4:18 gemik op ’n teenstelling: 'die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig'. Andersyds is daar die aanhaling uit die geskrifte van die skilder Paul Klee, wat stel dat ’n skildery nie die sigbare hoef te weerspieël nie, maar dat dit die onsigbare sigbaar moet maak. Deur die kuns, so kan ’n mens aflei, word die onsienlike sienlik. Die bundel wil, blykens sy titel, rekening hou met sowel die sigbare as die onsigbare dinge. In die poësie word die tydelike sigbaar, en ten spyte van die tydelikheid in ’n bepaalde sin duursaam.

"Hierdie bundel is besonder visueel en ouditief ryk. Reeds uit die openingsgedig 'Groenspreeu' blyk die toespitsing op die poësie se paradoksale daarvan, duidelik. Hierdie gedig is ’n voorbeeld van die beste verse in die bundel. Daar is ’n sekere speelsheid te bemerk, ’n beweeglikheid in die versbou, en klankmatig is dit heg gekonstrueer."

Wat Swanepoel die langste bygebly het van die bundel, is die manier waarop die digter lyding en herinneringe in woorde uitgedruk het. "Dat dit na aan die hart van die bundel lê, is duidelik uit die digter se vertaling van ’n uitspraak van die Duitse digter Rainer Maria Rilke wat juis die aandag wil vestig op al die dinge wat nodig is om ’n goeie vers te maak, en op die rypheid wat dit vereis. Hiervolgens is verse meer as gevoel en as herinnerings; dit is ervarings en herinnerings wat intiem een geword het met die digter en dan woord word en uit die digter uitgaan.

"Van sigbare en onsigbare dinge is ’n bundel waarin uiteenlopende dinge saamgedig word. Daar word gedig oor die kleine en die magtige, oor die tydelike en die ewige, oor sigbare en onsigbare dinge. Die stemming verspring van lig tot donker, van spel tot dodelike erns, en dan weer terug. Dit is ’n lieflike bundel wat herlees en herlees kan word."

In Beeld (9 November 1998) het A.P. Grové geskryf dat as ’n mens die tematiek van die bundel verken, kan die leser meer leer van die skrywer: van sy jeug, sy belangstelling in die intellektuele, sy beroep as predikant en professor in die teologie en ook kan ’n mens meer te wete kom van sy latere ondervinding as pastorale begeleier van oues, siekes en sterwendes.

"As ’n mens egter tot die essensie van die bundel wil deurdring, moet daar gelet word op die bindende verwantskap tussen gedigte van uiteenlopende aard, ’n verwantskap wat deur die genoemde 'rubrieke' sny en so die essensiële eenheid van die bundel bevestig. Die besondere wyse waarop Buys die hede dwing om telkens op die wyse van die poësie ’n bepaalde stuk verlede na die oppervlak te dwing, maak hierdie bundel ’n boeiende leeservaring en ’n waardevolle bydrae."

Pieter Willem Buys is op 27 November 1999 na ’n kort siekbed oorlede. Ná sy vrou Lulu se dood het sy kinders sy literêre nalatenskap aan die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein bemaak.

Huldeblyke

  • Leana Lategan, Museumgeesteswetenskaplike by Naln (Volksblad, 20 Oktober 2003): " 'As jy gedigte soek' (lui die titel van ’n openingsvers uit sy bundel Wit korbeel), sal jy dit oral kry, sê die digter: dalk sit jóú gedig 'soos die gemmerkat/ skuins voor oom Willie Steyn se huis', of skuil dit 'in ’n wateremmer/ in Huis en Tuin se rakke'; dis dalk 'sommer oop en bloot/ soos ’n studentesoen/ voor Volkskas op die stoep!' Maar vir Buys was 'Tomstraat ... steeds die beste plek ... Dáár’s een om elke hoek': die lang eikelaning met bome wat oor jou kop tóémaak was vir dié skrywer ’n misterieuse en geliefkoosde wandelplek, en ’n stukkie straat wat hy met sy trapfiets seker alte dikwels beleef het. (Die groot gesinsmotor het trouens as vervoermiddel by hom min aftrek gekry, want die fiets was sy ryding, waarnatoe die reis ook mog gaan!)

    "Buys se verse is altyd religieus gerig, maar dit sou ’n growwe verskraling wees om hom as ’n religieuse digter te tipeer. Daarvoor reik sy kreatiewe vermoëns te wyd: By sy studeerkamer onder die leeslamp met die staander van 'heuninggeel olien', die hout wat deur swaarkry 'marmerhard en mooi' geword het, het die digter ’n uitsig gehad oor die kronkelende stukkie Mooirivier wat teen die huis in Van Rooystraat 18 verbyvloei. Hier sien hy die 'nege wilgerboompies wat ek self geplant het'; 'my groen plataan' (Inventaris), en al die voëls wat by die waterbak vertoef om water te drink of te bad. Maar hy bemerk ook die korrel sand, neerslag en laaste rusplek van die rots wat deur vulkane 'gloeiend uit/ die ingewande van die aarde/ opgespuit' en met verloop van millenniums fyngemaal is: '’n oomblik/ en/ ’n ewigheid'.

    "Sy verse is klein duette van klank en kleur, altyd ingebed in die wonder van ’n Groter Hand wat alles vashou, skik en kantel. Of dit die vuurkool-streep van die rooivink is, of die 'trom wat in die diepte roffel', die somberheid van die aftree-oord en hospitaal waar hy siekes en sterwendes besoek (terwyl hy sélf 'bewe/ van angs/ vir die lewe') – alles skryf hy tot gravures vir dié wat die lees-reis wil onderneem.

    "Buys se drie digbundels (die somtotaal van sy gepubliseerde oeuvre) het beskeie begin by Pleroma, uitgegee in 1977, is opgevolg met Wit korbeel (Perskor, 1987) en afgesluit met Van sigbare en onsigbare dinge (Tafelberg, 1998). Die neerslag van ’n hele lewe is literêr hierin vervat: Predikant, dosent, filosoof, berader, gesinsmens, natuurliefhebber, toeris. Nie sonder rede het Afrikaanse literêre kritici Buys se bundels deurgaans met positiewe kritiek begroet nie: Die skrywer se integriteit as mens en as kreatiewe vakman maak van sy verse 'skuilplekkë van bos en veld en skemerlig'.

    "Op 15 Oktober 2003 was dit Buys se 80ste verjaardagherdenking, en 'Groenspreeu' (uit sy laaste bundel) sê dit als:

Jy kan die groenspreeu nie vertrou, hy lieg die aarde pimpelblou.
Hy fluit die hemel lowergroen, paljas 'n pruim tot perlemoen.
Hy tierelier die suring soet, die katjiepiering swart soos roet.
Hy vonkel, konkel, toor die son tot 'n ranonkelrooi ballon.
Die groenspreeu is 'n kunstenaar – soms lieg hy selfs die waarheid waar.
"

  • TT Cloete (Beeld, 3 Desember 1999): "As ’n mens aan PW Buys terugdink, vra jy jouself af: hoeveel lewens kan een mens lewe? Buys was meer as een mens. Van roeping was hy teoloog, eers as predikant en later as akademikus. Hy was professor in etiek en apologetiek aan die teologiese skool van die Potchefstroomse Universiteit. Diep in sy hart was hy egter ook ’n digter, en hy was ook baie lief vir die musiek en die skilderkuns. In daardie bekende bloemlesing wat DJ Opperman baie jare gelede (1946) saamgestel het uit gedigte wat in Standpunte verskyn het, is destyds al gedigte van Buys opgeneem wat hy as student geskryf het. Opperman het sy talent dadelik herken. Tog het Buys jare later eers gedebuteer. Hy het drie digbundels gepubliseer. In 1977 het hy gedebuteer met Pleroma, net mooi tien jaar later volg Die wit korbeel en nog tien jaar daarna sy derde en laaste bundel, Van sigbare en onsigbare dinge. Van hom geld wat die Nederlandse digter JC Bloem van homself gesê het: wat hy aan omvang ingeboet het deur sy beskeidenheid, het hy deur suiwerheid vergoed. Buys was ’n werklik beskeie mens en nie opgewasse teen die onaangenaamhede wat die blootstelling van die literatuur altyd maar meebring nie. Daarom het dit veel oortuigingswerk gekos om hom te oorreed om in 1977 te debuteer, beskroom en half weggesteek. Die uitgewers van sy eerste twee bundels bestaan selfs nie meer vandag nie. Hy was ’n sagte mens, sag soos die swartkomyn waaroor hy in sy laaste bundel skryf: 'swartkomyn word met ’n sagte stok geslaan as dit geoes word'. In sy laaste bundel, wat baie goed ontvang is, skryf hy oor ’n oorlede jeugvriend wat die digkuns diep in hom gehad het. Daardie gedig is vandag op Buys self van toepassing: vlamhelder leef hy voort, hy 'wat die wonder van die skoonheid/ suiwer soos ’n kind/ beleef het lewenslank'. Hy het, toe hy al professor in die teologie was, vir die avontuur vanaf die eerste jaar tot by die honneursklasse in algemene literatuurwetenskap geloop. Hy het soos ’n avontuurlustige mens met ’n gretige gesig daar gesit. Wat hy vir ons nagelaat het, is skoon, suiwer liriek en gedigte van ’n beminlike menslikheid."
  • Prof PJ de Bruyn in Die Kerkblad van 9 Februarie 2000: "PW Buys was Christen met sy hele wese. Hy was van sy studentedae af ’n harde, toegewyde werker. Hy het so hard gewerk dat Totius hom by geleentheid gewaarsku het dat sy kragte nie sal hou as hy so voortgaan nie. Wat veral opvallend was, was sy nederigheid en beskeidenheid.

    "As predikant was hy ’n besonder begaafde prediker wat die Woord van God in sy diep en indringende betekenis kon verklaar en oopmaak en dit dan so toepas dat dit ’n mens werklik aangespreek het. Toe daar by geleentheid aan Pieter Buys gevra is hoe hy ’n preek maak, was sy beskeie antwoord: 'Op my knieë.'

    "Pieter Buys was ook vir geruime tyd lid van en voorsitter van die Deputate vir Kerklike Publikasies en in dié verband het hy waardevolle diens gelewer. Talle artikels oor kerklike sake het in Die Kerkblad en in Die Gereformeerde Vroueblad verskyn. Sy grootste bydrae in dié verband was egter sy redakteurskap van 34 jaar van Slingervel, die Christelike kinderblad. Hy het die gawe gehad om op ’n besondere wyse met die jeug te gesels en daarom het hy Slingervel ook uitgebou. Die Sinode van 1997 het dan ook heel gepas ’n oorkonde aan hom oorhandig vir 'sy waardevolle en onbaatsugtige werk aan Slingervel'.

    "Behalwe vir die feit dat hy ’n bekwame en toegewyde leermeester was, was sy groot waarde as akademikus veral geleë in die leiding wat hy aan nagraadse studente gegee het. PW Buys was as persoon, soos Totius, klein van postuur, maar ’n man met ’n groot gees en wonderlike gawes en talente wat hy toegewyd en met oorgawe in die diens van die Here gebruik het."

  • TT Cloete oor PW Buys se poësie: "In stilte en afsondering het Buys sy skryfwerk gedoen, en dit goed gedoen, sonder aanmatiging, sonder pretensies, sonder aandagsoekery, sonder enige eise wat hy aan die leser gestel het. Buys se werk is ryk aan taal. Hy benut woorde uit ons woordeskat wat grootliks onbenut in woordeboeke lê."
  • Dr Neels Smit: "Ons dank God vir PW Buys. Nederige mens, ’n kinderlike gelowige. Geroepe teoloog wat eintlik niks graagter as predikant wou wees nie, en nooit kon ophou om predikant te wees nie. Elf jaar na sy emeritaat het hy op 76, in die laaste tyd vermoeid en belas met sy toenemende siekte wat hy sover moontlik vir homself gehou het, voortgewerk en die volle bediening van Huis Eikelaan behartig. In ’n bepaalde sin was hy ’n gevangene van die bediening, hy móés eenvoudig voortwerk, sy sin vir roeping het hom gedryf. Hy het na hierdie werk van hom in Huis Eikelaan met ’n skerp sin vir ironie gekyk. Hy het dit “romantiek van die pastoraat” genoem. Hy was prediker by uitnemendheid: ’n man wat uit die terloopse teks nuwe wêrelde kon optower, verrassende perspektiewe kon laat inslaan; maar ook iemand wat kon lag, met die onhebbelikheid dat hy so aan die lag kon gaan vir die komiese dat hy moeilik tot bedaring kon kom. Humormens, wat met fyn selfspot gedurende sy laaste nag in die intensiewe eenheid, met talle pypies en monitors aan hom verbind, tussen asemstote deur nog kon sê: 'Ek lyk nou nes Sasol!'

    "Ook gesinsman, vriend en raadgewer vir baie, veelsydige denker, skerpsinnige waarnemer. Natuurliefhebber wat God se groot liturgie in die natuur kon bemerk. ’n Man in wie die digter uit elke hoek van sy hart geloer het. En die man wat wonder, die man wat ly, veral vanweë ander se lyding, ander se droefheid. Die man in wie die kind nooit gesterf het nie, want hy was kind van God. Sy diepste vreugde het hy in die nabyheid van sy Vader gevind, berustend, bereidwillig vir God:

Nou is die vrede diep en vol,
Die leed van jare weggesink
Soos waterkuile in valleie

Wanneer die aand daar rooi oor blink."

                 Aanhalings uit enkele gedigte van PW Buys

Tiptol

...
Kletsnat hol
hy na die plas se kant,
hy stryk
sy veertjies met sy snawel glad.
Heilig en spieëlsuiwer blink
sy omgekeerde beeldjie in die watervlak.

...
Finaal bekeer
begin hy luidkeels bid en roep
in tongetaal.

’n Halfuur later steel hy weer
een van my adamsvye.

Oor sy werk by Huis Eikelaan

’n Ligte werk wat ’n emeritus
teen die verveling van die oudag
sal beskerm?

Nou tien jaar al
sprei ek my pastorale vlerk
beskermend oor hul uit
en vou hul in die liefde toe
van Christus en sy kerk.

Maar, Here God, U weet,
ek hou my hart met albei hande vas
wanneer ek smôrens binnegaan
in hierdie groot
wagkamer van die dood.

En só beskryf hy God se groot liturgie in die groot en klein dinge van die natuur:

Waar alles rondom so ’n helder prent
van sy nabyheid is, is sakrament

en werklikheid tot een saamverbind.
En as die dag verby is en die wind

met skemeraand die laaste lofsang speel,
dan hef die son sy hande teen die geel

aandhemel op en spreek nog ten besluit
die seën oor die verlate landskap uit.

 

Publikasies:

Publikasie

Pleroma – gedigte

Publikasiedatum

1977

ISBN

0949977306 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Boekhandel De Jong

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •  

 

Publikasie

Wit korbeel

Publikasiedatum

1987

ISBN

0628031335 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  •  

 

Publikasie

Van sigbare en onsigbare dinge

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624-37061 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

PW Buys as vertaler

  • Hegger, HJ: My weg na die lig. Potchefstroom: Pro Rege, 1957
  • Overduin, Jan: Die kindergebed. Potchefstroom: Pro Rege, 1956

Artikels oor PW Buys op die internet

 

Terug na bo

Bygewerk: 13/12/2019
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za


The post PW Buys (1923–1999) appeared first on LitNet.


Daniel Hugo (1955–)

$
0
0

Foto: Marlene Malan

Sêgoed van Daniel Hugo

Wat laat hom dig? “Ervarings en gevoelens, maar veral die intellektuele moontlikhede om met die taal te speel. Sonder taal is daar nie ondervindings, emosies of denke nie. En sonder spel is daar nie poësie nie.” (Sarie, 9 Januarie 2002)

Hoe begin hy ’n gedig skryf? “’n Gedig word meestal vir my ingegee deur woordspel, ’n metafoor of interessante rymwoorde. Dié tegniese middels gaan dan soos magnete soek na gepaste materiaal in die gemoed van die digter. Taalbewustheid kom in die digkuns voor lewenservaring.” (Sarie, 9 Januarie 2002)

“Liefdesgedigte is afhanklik van die liefde. Die liefde kom soms maklik, soms nie. Maar die poësie is altyd moeilik.” (Sarie, 9 Januarie 2002)

“Ek het met boeke grootgeword. My pa het gereeld AG Visser opgesê en vir ons Langenhoven voorgelees, en my ma het net so wyd gelees.” (Sarie, 15 Mei 1994)

’n Inspuiting teen griep? “Ek het my nog nooit laat inspuit nie. Ek kry in elk geval nie juis griep nie, het al baie winters daarsonder deurgegaan. Dalk is dit oor die baie wit wyn wat ek drink. Al wat my help om gesond te bly, is baie slaap en stap langs die see. As ek olik voel, drink ek steeds my wit wyn, maar met ’n Disprin by, net om seker te maak ek smoor die virus in die kiem.” (Sarie, 19 Julie 1995)

“Ek is nie ’n agnostikus nie, ek is ’n ongelowige Christen. Ek is opgevoed as Christen, my hele verwysingsraamwerk is Christelik-Westers; ek kan nie daarby verby nie. Maar tot die dag van my dood bly ek ’n ongelowige Christen.” (Sarie, 23 September 1998)

Oor die toekoms van Afrikaans in 1994: “Wat vir my altyd so verbasend is, is dat mense wat van beter behoort te weet, een eenvoudige onderskeid nie kan maak nie – dié tussen gesproke Afrikaans en kultuurtaal. Natuurlik is mense reg as hulle sê Afrikaans as spreektaal sal nie verdwyn nie – nie in 100 jaar nie, want dit is die taal wat die meeste mense in die land verstaan. Die gevaar lê by die hoër kultuurfunksies van die taal, en daarvoor het ’n mens inderdaad beskerming nodig. In Namibië het hulle dit nie besef nie. Hulle het gemeen die kultuurfunksies sit outomaties aan ’n taal.” (Beeld, 25 Februarie 1994)

“As mense vir my moet vra wat is my godsdiens, sal ek sê dis die poësie. ’n Mens moet die lewe op een of ander manier draaglik maak, en as daar volmaaktheid in die wêreld te vinde is, is dit in ’n gedig.” (Beeld, 3 Junie 1998)

Om te dig “is veel meer as terapie. Dis intellektueel bevredigend. Dis dikwels ’n spel met jouself, jou eie vermoëns, jou taal. Jy toets die taal, jy kyk hoe ver jy kan gaan daarmee.” (Sarie, 23 September 1998)

Of hy ooit ’n roman sal skryf? “Ek het bewondering vir die mense wat dit kan doen. Maar dis moeilik genoeg om ’n goeie gedig te skryf. Dis moeilik, al is dit lekker. Ek hou my maar daarby.” (Sarie, 23 September 1998)

“En is daar ’n kragtiger argument vir die voortbestaan van ’n taal as die onvervangbaarheid van sy poësie?” (Versindaba)

Joan Hambidge wou weet wie sy gunsteling-digters in Afrikaans is? “My leermeester: D.J. Opperman; My oermoeder: Elisabeth Eybers; My bloemlesingdames: Olga Kirsch en Ina Rousseau; My Moses: Breyten Breytenbach; My Nemesis: Charl-Pierre Naudé.” (Op LitNet)

Sy skeppingsproses verduidelik hy só aan Riette Rust (Rapport, 2 September 2012): “Ek kom op interessante rymwoorde af of op idiome wat ek letterlik kan toepas en ek speel graag met woord­assosiasies.”

“die digter sal onvolmaak bly skryf
tot daardie dag van die leeu en die lam
die kat en die duif” (Uit: “vir die kritici”, Korte mette, 1982)

“Die digkuns gee sin aan my lewe. Dit help om emosies en ervarings vorm te gee en sodoende teverwerk. Maar dit bewaar my ook van verveling, want verse maak is in die eerste plek ’n intellektuele spel – ’n spel met woord, klank, ­betekenis en versvorm. Anders ­gestel: Die skryf van ’n gedig is ’n vernufsoefening. Dit is soos om ’n blokkiesraaisel op te stel. Die leser doen dan die invulwerk. Op 60 het dit nou seker vir my ook tyd geword om blokkies­raaisels in te vul. Dit is glo ’n ­effektiewe middel teen brein­aftakeling.” (Die Burger, 23 Februarie 2015)

“Deesdae voel ek my as Afrikaner en blanke middelklasman minder verantwoordelik vir wat in die land gebeur. (En dit lyk of ons weer op pad is na ’n polisiestaat.) Ek kan die politieke karpatse van die ANC-regering met meer afstand, ironie en selfs sinisme aanskou. Dit is natuurlik ook makliker hier op die afgeleë Prins Albert waar ek nou woon. En dit is hier waar ek beleef dat baie mense nie koerant lees nie, maar wel die papier gebruik om sigarette te rol.” (Op Versindaba)

Oor die toekoms van Afrikaans: “Ek is bekommerd oor Afrikaans, ja. ’n Taal sonder politieke en ekonomiese mag is gedoem as kultuurtaal. As spreek- en singtaal is Afrikaans lewenskragtiger as ooit, maar dit is nie die punt nie. Die status van ’n taal word bepaal deur die hoeveelheid ‘hoër funksies’ wat dit vervul. Afrikaans is vinnig besig om terrein te verloor in die onderwys (veral by tersiêre instellings), handelswêreld, regswese, die gedrukte en elektroniese media. En die gedrukte boek verteenwoordig vir my nog steeds die fondament én toppunt van enige kultuurtaal.” (Op Versindaba)

Oor humor in die digkuns: “Daar is digters wat totaal onpersoonlike gedigte skryf, soos Wilma Stockenström, maar die meeste digters is wesenlik selfgesentreer. Om te keer dat dit hinderlik selfingenome en selfbehep raak, is ironisering noodsaaklik. ’n Bietjie selfspot kan ook nie kwaaddoen nie. Ek weet dat humor in die digkuns deur sommige akademici met agterdog bejeën word, maar dit is hulle verlies as hulle die poësie so wil verskraal.” (Op Versindaba)

“Dis onnodig om letterkundige teorieë te ken om ’n gedig te verstaan. Al wat jy nodig het om die poësie met insig te lees, is gesonde verstand, belesenheid en die vermoë om kernagtig te formuleer.” (Die Hoorn, 21 Junie 2018)

Gebore en getoë

Daniel Johannes Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Daniel is een van sewe kinders van sy pa, George, ’n sendingpredikant, en sy ma, Margaretha. Gedurende sy grootwordjare is sy pa beroep na Warmbad in die suide van Namibië (destyds nog Suidwes-Afrika), Greyton in die Wes-Kaap en toe Daniel sewe is, trek die gesin terug na Namibië, waar sy pa predikant word by die Khomasdal NG Kerk in Windhoek. Sy pa, wat onder meer lid was van die komitee wat die nuwe gesangeboek vir die Verenigende Gereformeerde Kerk saamgestel het, is in Desember 1996 oorlede.

Daniel gaan skool in Windhoek en behaal in 1972 sy matriek aan die Hoërskool Jan Möhr. Hy begin ’n belangstelling in die skryf van gedigte ontwikkel toe hy in standerd agt oor die “ongerepte natuur van Namibië begin dig het. In standerd nege was die hooftema die liefde.” Opstelskryf was nie Daniel se sterk punt op skool nie, maar met die belangstelling en leiding van onderwysers soos mnre Kirsten en Schoeman wat ’n aanvoeling vir die letterkunde gehad het, het Daniel op ’n jong ouderdom in die skryfkuns begin belangstel.

Daniel se ma was bibliotekaresse, vertel hy aan Jacques Liebenberg in Beeld (25 Maart 2008). “Ek het met respek vir die woord en die Woord grootgeword. Ek het op skool al gediggies geskrywe. Een van die eerstes was oor die reën. As dit in Windhoek reën, is dit ’n groot storie!”

Verdere studie en werk

Na matriek vertrek Daniel na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy aanvanklik vir predikant studeer. Vanaf 1973 tot 1975 volg hy die BA Admissie-graad met Grieks, Hebreeus en Afrikaans-Nederlands as hoofvakke. Na die verkryging van sy graad besluit hy om op die letterkunde te konsentreer en in 1976 verwerf hy sy BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands, ook op Stellenbosch.

In 1977 en 1978 doen hy sy militêre diensplig in Pretoria en terwyl hy daar is, doen hy sy meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria onder die promotorskap van AP Grové met ’n verhandeling oor die “Brandaan”-siklus van DJ Opperman. Tydens sy studentejare is hy ’n deelnemer aan DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium.

Na hierdie studies hou Daniel vir ’n jaar skool in Windhoek aan die Ella du Plessis Sekondêre Skool in Khomasdal (1979). Hy besef egter gou dat hy nie in die wieg gelê is vir die onderwys nie en in 1980 word hy aangestel as dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Afrikaans en Nederlands. Vanaf 2004-2016 is hy navorsingsgenoot aan dieselfde universiteit.

Daniel trou in 1978 met Christelle Pretorius en hulle het een seun, George. Die huwelik is later ontbind.

In 1983 studeer hy vir ’n jaar aan die Katholieke Universiteit van Leuven in België en ontwikkel hy ’n band met en ’n liefde vir die Lae Lande.

In 1986 keer hy vir ses maande terug na Windhoek, waar hy Afrikaans doseer aan die Akademie vir Tersiêre Onderwys. Hy word deur die Universiteit van die Vrystaat soontoe gesekondeer in die plek van George Weideman wat met verlof was.

In 1989 behaal Daniel sy doktorsgraad met JC Kannemeyer as sy promotor. Sy verhandeling is getitel Die digter en sy middele: ’n ondersoek na die vernufpoësie in Afrikaans.

In 1989, na nege jaar as dosent by Kovsies, en tydens die groot vloed in die Vrystaat en die Noord-Kaap, luister Daniel radio en hoor toevallig dat ’n pos geadverteer word by Radio Suid-Afrika. Hy het gevoel dat hy op daardie stadium nie vorder in sy loopbaan nie en hy het, sonder dat hy enige ondervinding gehad het, aansoek gedoen vir die pos en is aangestel. Hy gaan vir twee maande na Johannesburg vir opleiding en vertrek daarna na Kaapstad. Hy is ’n stadsmens wat hou van die Kaapse Afrikaners omdat hulle ontspanne is “sonder die tradisionele Afrikaner-obsessies, die groot kommer oor identiteit”. Dit is aan sy grootouers te danke dat Daniel ’n liefde vir die radio ontwikkel het, want hulle was sulke aktiewe en amper fanatiese radioluisteraars.

In 2001 trou Daniel met die jeugboekskrywer Carina Diedericks en die egpaar woon op Stellenbosch. Hy en Carina is intussen geskei.

As digter debuteer Daniel in 1981 saam met André le Roux du Toit (Koos Kombuis), Peter Snyders en Etienne van Heerden met die bundel Brekfis met vier, wat in 2005 heruitgegee word deur Human & Rousseau.

In 1981 verskyn ook Saad uit die septer: synde die apokriewe liefdeskroniek van ene Daan van der Merwe, ’n storieboek met ’n les vir die volk onder die skuilnaam Daan van der Merwe by PJ de Villiers Uitgewery. Ter viering van Daniel se vyftigste verjaardag in 2005 word die boek deur Protea Boekhuis in ’n beperkte oplaag heruitgegee.

Volgens Cecile Cilliers in Die Burger van 5 November 2005 het Daniel ’n swakte én ’n gawe vir speelse verse; die verse is tegelyk sjarmant en stuitig en guitig en speels. Vir Cilliers was dit ook lekker om die stemme van mededigters te herken tydens die lees van die bundel. Sy eindig haar resensie met: “Ons neem ons poësie alte ernstig op in Afrikaans. In Saad uit die septer wys Hugo ons op ander, speelser moontlikhede.”

In 1982 verskyn Daniel se eerste solobundel, Korte mette. Daniel is die eerste Afrikaanse digter wat (in 2002) al sy werke op CD-ROM beskikbaar gestel het. Versalbum bevat, naas biografiese inligting, ook lesings wat hy deur die jare gelewer het en al sy gedigte, waarvan hy heelwat self voorlees.

Korte mette verskyn nog sewe digbundels uit Daniel se pen voor die draai van die eeu. Aanvanklik verskyn hulle met tussenposes van ’n jaar en na Dooiemansdeur (1991) so elke drie of vier jaar.

In sy resensie van Die boek Daniel (1986) skryf André le Roux (Die Burger, 7 Augustus 1986) as volg: “Nou’s Hugo terug by die klein aambeeld – en dit klink nie so waffers nie. Dáár, in hierdie gevestigde digter se bundel Die Klein Aambeeld, drie jaar gelede, het die tekens van gematigdheid reeds begin wys, om nie te praat van die skraalheid van Buitekamerklanke wat in dieselfde jaar verskyn het nie. Gelukkig had Hugo sy poëtiese woord toe reeds bestendig, maar dit was geen verskoning vir die terugval op ’n plato van futloosheid, die kunsteoretiese en eie verlekkering nie. Dit was net so jammer – idem nou. Dis steeds die dooies, die kritici, stoutigheid en die Oppermaanse. Hoekom kry 'n mens die indruk jy lees uitskotgedigte? (...) Maar dit bly persoonlik en maklik; die woordspeling net té speels om nog ruimte te laat vir daardie trefkrag waarvan Hugo al behoorlik blyke gegee het. (Dis sy sesde bundel dié.) En weet: as ’n digter soos hy hom beroep op clichés, is dinge nie lekker nie – ‘waar twee groot riviere deur die eeue druis’. Daar is oplewings (pp 50, 52, byvoorbeeld), maar dan raak dit selfs ligsinnig met ’n traak-my-nie-agtigheid wat nie vertroud klink met die vorm waarin Hugo sy gedigte laat val nie. Die vraag ontstaan of dit nie tyd geword het dat hy ophou worstel met die skryf oor die skryf van ’n gedig nie – sodat hy ’n slag weer gedigte kan skryf ... Maar terselfdertyd ontstaan die vraag: Nou hoekom is dit dan nog steeds so aangenaam om sy gedigte te lees?”

In 1987 verskyn Vuurdoring en hieroor het Pieter van der Lugt in Die Burger van 25 Februarie 1988 geskryf: “Die temas (in Daniel se voorafgaande bundesl) het min of meer dieselfde gebly: skryf, liefde en eie sake soos ouerskap. Maar die gedigte word suutjies al netjieser. Hugo het geen hoë ideale met inhoud en vorm nie. Hy hou by sy beproefde resep van simmetriese strofes en ’n rym af en toe. (...) Moses se brandende bos het aanleiding gegee tot die titel. Dit is simbool van alles wat onbegryplik is omtrent bestaan, dit wat gereël word deur iets wat uitstyg bo verganklikheid. Die dood word nie die stryd aangesê nie, hoewel Hugo plek-plek daaroor dink. Miskien sou ’n vlagie opstandigheid hier vanpas gewees het. ’n Man moet darem nie só gelate gaan nie! Vuurdoring is vol mooi gedigte. Dit lees lekker en sal niemand hoofbrekens besorg nie. Hier werk ’n vakman met deeglikheid - sonder pretensie, nooit esoteries nie.”

Met die verskyning van Verse van die ongeloof in 1989 het Wium van Zyl in Die Burger (28 September 1989) gemeen dat Daniel weer bewys het dat hy “op sy beste ’n meester is met die flousbewegings van die ironie. Ondanks ’n volgehoue speelse aanslag bevat hierdie verse dikwels ondertone en selfs bowetone van pyn en bitterheid. ’n Belangrike deel van die bundel het te make met ’n ‘verbode liefde’ waarin die ‘blonde engel met die nom de plume’ van die opdraggedig gereeld figureer.”

Van Zyl sluit se bespreking af: “Verse van die ongeloof behoort nogtans aan poësieliefhebbers baie plesier te verskaf. Dit is toeganklik sonder om eenvoudig te wees. In ons Ernstige Tydsgewrig is Hugo inderdaad ‘nog uitgespaar deur die Virus’.”

In sy digbundel Skeurkalender is die antigodsdiens weer ’n prominente tema. Dit bly vir Daniel ’n belangrike tema, “veral omdat ons in ’n samelewing bly waar ’n mens nog nie jou ongeloof kan bely nie. Ek dink die voorval met Madeleine (van Biljon in 1998 en die ATKV) kan ’n waterskeiding wees. Ek was in soveel gesprekke betrokke daaroor en dis asof mense nie kan glo dat jy die godsdiens rasioneel kan beskou of krities kan wees nie,” sê hy aan Herman Wasserman (Die Burger, 27 Mei 1998).

In 2002 word Die twaalfde letter by Protea Boekhuis gepubliseer. Ampie Coetzee (Die Burger, 2 Desember 2002) skryf dat sedert Daniel se eerste bundel “hy nog altyd vormvaste, goed gestruktureerde verse skryf, met ’n voorkeur vir rymende reëls. Hy skryf ook oor die ambag van digterwees en natuurlik oor die liefde. Die twaalfde letter is opgedra aan Carina ‘wat begryp én troos met ’n sagte hand’ . Die twaalfde letter van die alfabet is ‘l’, wat ook staan vir liefde en begryplikerwys is meer as die helfte van die gedigte in Die twaalfde letter liefdesgedigte. Die ander gedigte handel grootliks oor die kuns van die poësie en die moontlikhede en die beperkings daarvan, maar dan dikwels binne die konteks van die liefde. Dit gaan ook oor die digter wat transformasies in woorde bring. Dan is daar ook nog die stuitige, dubbelsinnige, metafore – nog ’n voorliefde van die digter sedert sy eerste verse.”

Coetzee gaan voort: “Wanneer ’n mens te doen het met die intimiteit van ’n liefdesbundel, kan jy nie die mens agter die boek ignoreer nie. Poësie word dan outobiografies (life writing). ’n Mens sou dan hier kon lees dat Daniel in 1966, toe hy elf jaar oud was, ’n onaangename ervaring gehad het en so bewus geraak het van die ‘stink bestel’ wat die skrywer moet uitdaag (‘Wintervakansie, 1966’); dat hy op dertien besef het dat hy ’n digter kan word, dat sy pa ’n predikant was, dat hy in ’n stadium in Leiden was, lief is vir ou boeke, daarvan bewus is dat die uitverkore digter ’n ‘rymtepionier’ kan wees wat ‘met ’n ligjaar’ ons lot kan verruim, teenoor dié wat net binne die grense van hulself kan bly. Laasgenoemde is Hugo beslis nie.

“Hierdie boek van Hugo is oor hom en sy geliefde, oor hul liefde, en selfs oor hul struwelinge. Die geliefde kan soms onbereikbaar wees, ‘soms onbegryplik ingewikkeld’. Maar dit is veral getransformeer tot poësie waar die digter die poëtiese tegniek laat sinchroniseer met die betekenis, soos die erkenning van die belangrikheid van die rymwoord in die volgende helder kwatryn, ‘Aandete’: ‘as dit tussen twee mense skryn / hoor hoe skraap staal op porselein – / die kersvlam flikker, die stilte sidder-wag, / wag, wag vir die rymwoord pyn.’”

Bykans sewe jaar verloop voordat Daniel se volgende digbundel getiteld Die panorama in my truspieël in 2009 by Protea Boekhuis verskyn.

Hieroor skryf Marius Crous (Beeld, 27 Julie 2009): “Reeds met die lees van die inhoudsopgawe van Daniel Hugo se jongste digbundel kan die leser aflei dat hy hier te doen gaan kry met verse oor die liefde, oor plekke, oor die skryf van gedigte en oor diere – almal temas bekend uit Hugo se oeuvre sedert hy in 1981 in Brekfis met vier gedebuteer het. Hugo publiseer ook al om die ander jaar ’n digbundel en wat ek nog altyd van sy digkuns bewonder, is sy vermoë om te rym; om die juiste rymwoord te vind sonder dat daar sprake is van ’n gedwing.

Foto: Willem S van der Merwe

“Die titel van die bundel kom veral in die slotgedig, ‘Die lang pad’ (p 64), ter sprake, waar die pad vorentoe en die onbekende ‘groot miskien’ wat op jou wag, ondersoek word. Wanneer die spreker in die gedig in sy truspieël kyk, besef hy dat die gesig agter hom altyd deel sal wees van sy ervaring “en dat die bestaan soos ’n palindroom is’ – ‘begin is bestemming en bestemming is begin’.”

In Die panorama kan die leser sien hoe ’n “digter met die woord en wederwoord” kan omgaan en dat dit nie nodig is om van oordaad gebruik te maak nie, “aangesien daar op klein skaal behendig met die woord omgegaan kan word.”

In 2012 verskyn Daniel se 14de digbundel Hanekraai. “Die motief van die bundel word reeds weerspieël in die weerhaan op die voorblad en in die titel: Hanekraai verwys nie net na een van die oudste beskawingsgeluide wat, soos die aarde, aan die uitsterf is nie, maar ook na verraad en ontwaking – verraad van die aarde en van die mens se eie aard. Ons vernietig nie net die natuur nie, ons leef al meer kunsmatig,” sê Daniel aan Riette Rust in Rapport van 2 September 2012.

“Ontwaking sinspeel nie slegs op ’n letterlike wakkerword nie, maar ook op bewuswording, seksuele ontwaking en ’n ander manier van kyk soos deur die oë van ’n nuwe geliefde.”

’n Ander titel vir die bundel kon ook Gesprekke vir die binne-oor wees. “Want gedigskryf is vir my in die eerste plek selfgesprek,” sê hy. “Veertien reëls vir ’n wettelose land” sou die aanleiding vir dié titel kon wees waar Hugo in dié gedig se slotreëls sê:

Ek lawe my verslae ego
met dáárdie klanke van Afrikaans
wat nog net in die binne-oor bly eggo.

 Daar is 72 gedigte in Hanekraai waarin evolusie, die mens se verhouding met sy omgewing en sy belewing van die natuur, dood, digterskap, religie en die erotiek ondersoek word en van al die motiewe (soos voëls, katte, water en musiek), figureer die spieëlbeeld die sterkste.

As samesteller en redakteur maak Daniel ook sy merk in die Afrikaanse letterkunde en een van sy gunstelingprojekte is die samestelling van die kortverhaalbundels Tydskrif 1 en Tydskrif 2. Hiervoor moes daar in ou tydskrifte van toeka se tyd gedelf word op soek na geskikte verhale. Hy vertel in ’n onderhoud in Rooi Rose dat hy “klein skatjies gekry het wat verby drie jaar se droogte, drie jaar se sprinkane en drie jaar se misoeste” gekyk het en van vermaaklike poetsbakkery, liefdesgeluk, vriendelike spoke, vroulike vernuf in oorlogstyd, delwersvreugde en begrip tussen mens en dier vertel.”

Daniel sien ’n bloemleser as iemand wat bekendstel en bewaar. “Die letterkunde is soos ’n gruishoop wat ’n mens oor en oor moet sif om die misgekykte diamante te vind. Die patroon waarin dié vondste dan in ’n tematiese bloemlesing gerangskik word, gee daaraan ’n uitsonderlike flonkering,” verduidelik hy aan Joan Hambidge op LitNet (“Die gruishoop vol misgekykte diamante”).

“Die samesteller moet verseker ’n inleiding skryf, want daarin kan hy nie net sy keuse motiveer nie, maar ook die lesers inlig, inspireer en opvoed.” Hy verduidelik verder aan Hambidge: “Buiten akademiese tydskrifte is die publikasiemoontlikhede vir literêre kritici deesdae besonder beperk. Elke bloemlesing sonder ’n inleiding is ’n gemiste kans om ’n groter publiek te bereik. So ’n inleiding bied ’n gulde geleentheid om onderhoudend en toeganklik oor gedigte, liedtekste en kortverhale te skryf.”

Hy was in 2011 een van die medewerkers van Groot woordeboek: Afrikaans en Nederlands wat deur Pharos gepubliseer is, nadat hy reeds vanaf 2000 tot 2002 deeltydse woordeboekredakteur was.

Hy onderskei hom ook op die gebied van letterkundige vertaling en is die vertaler van etlike werke uit Nederlands in Afrikaans. Hy word drie keer genomineer vir die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se vertaalpryse vir die vertalings van Die elektries gelaaide hand van Gerrit Komrij en Harry Mulisch se Die aanslag, asook vir Adriaan van Dis se Tikkop. Daniel is ook verantwoordelik daarvoor dat skrywers soos Tom Lanoye en Herman de Coninck in Afrikaans gelees kan word.

Een van die moeiliker boeke wat Daniel vertaal het, is die Vlaming David van Reybrouck se boek De plaag. Die Afrikaanse titel is Die plaag – die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika, wat nie net ’n terugloop is op die spore van Eugène Marais en Maurice Maeterlinck nie, maar ook ’n reisverhaal oor Suid-Afrika. Volgens Daniel span die Vlaminge ’n groter woordeskat in as die Nederlanders en het hulle heelwat idiome en ’n wyer registerwisseling. “Dit is moeilik om in Afrikaans ekwivalente daarvoor te kry,” sê hy aan Francois Smith (Die Burger, 30 Desember 2003).  

Sy vertalings kan as baanbrekerswerk beskou word. In 2004 vertaal hy twee kinderboeke, Griekse gode en godinne uit die mitologie en Fantastiese verhale uit die Griekse mitologie, uit Engels en word dit deur Human & Rousseau gepubliseer.

Daniel vertaal ook Adam Small se The Orange Earth, en met die sewentigste herdenking van Small se verjaardag voer die KreaKon-toneelgeselskap onder leiding van Willem Fransman jr die stuk in 2006 op.

In 2000 verskyn by Uitgeverij P in Nederland die bundel Planetarium, ’n keur van Daniel se verse van 1982 tot 1998. Die gedigte is vertaal deur Jacqueline Caenberghs en is in Afrikaans en Nederlands afgedruk. Caenberghs skryf ook die voorwoord tot die bundel getitel De lichtvoetige echo van een schreeuw: Over de poëzie van Daniel Hugo.

In die sewe jaar wat verloop het tussen die publikasie van Die twaalfde letter en Die panorama in my truspieël het Daniel nie gesit en niks doen nie. Daar het 21 vertalings uit sy pen verskyn, waaronder ook vertalings van kinderboeke soos Die Loergaatjie-reeks, My blommefeetjies-bababoek van Cicely Mary Barker, asook twee boeke deur Pat Posner oor die Griekse mitologie, getiteld Fantastiese verhale uit die Griekse mitologie en Griekse gode en godinne uit die mitologie.

Op LitNet (“Die gruishoop vol misgekykte diamante”) meen Joan Hambidge dat Daniel die Afrikaanse digkuns verruim het met sy uitstekende vertalings van Vlaamse en Nederlandse skrywers en digters. Sy wou by hom weet of sy skryfwerk deur die vertalings beïnvloed is en indien wel, in watter mate.

Daniel se antwoord: “Vertaling van poësie is vir my in die eerste instansie ’n tegniese uitdaging. Ek twyfel of enige van die digters wat ek vertaal het – Herman de Coninck, Jean-Pierre Rawie, Gerrit Komrij, Tom Lanoye, Rutger Kopland – enige regstreekse invloed op my gehad het. Ek vertaal wel wat tot my spreek. Ongelukkig is nie alles wat tot my spreek, vertaalbaar nie. (Ek dink byvoorbeeld aan die gedigte van Paul van Ostaijen.) Daar is beslis iets soos ’n onvertaalbare gedig – veral waar die kern van ’n vers geleë is in ’n woordspel of ’n dubbelsinnige idiomatiese uitdrukking. Dit is meestal ook onmoontlik om die klank van die vers van een taal na ’n ander oor te dra. As jy ’n halfrym op een plek verloor, probeer jy met ’n assonansie of ’n alliterasie op ’n ander plek daarvoor vergoed. Vertaling is ’n proses van keuses maak en kompenseer. En soms, net soms, klink die vertaling beter as die oorspronklike.”

Daniel was vanaf 1981 lid van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar in November 1989 bedank hy omdat hy hom nie langer kan vereenselwig “met die blatante politieke rigting wat die Gilde die [voorafgaande] jaar ingeslaan het nie”. Hy dien vanaf 1989 tot 1996 in die redaksie van die letterkundige tydskrif Contrast as Afrikaanse redakteur en word gereeld gevra om as beoordelaar vir die toekenning van literêre pryse op te tree. In September 2001 was hy ook gasredakteur van die literêr-wetenskaplike tydskrif Stilet. Vanaf 1995-2006 was hy die sameroeper van die Ingrid Jonkerprys-fonds.

Tydens die Nasionale Leeskringseminaar in Welkom in die Vrystaat in 1992 lewer Daniel ’n lesing “Kan die Afrikaanse poësie lag?” In hierdie lesing verkwalik hy die skoolleerplanne van daardie tyd wat die indruk skep dat Afrikaanse poësie net oor dood, droogte en verdriet handel. Hy bepleit beter kennis van die limeriek en die Afrikaanse volkskwatryn wat deur digters soos Ronnie Belcher en Boerneef beoefen is en waarsonder die Afrikaanse poësieskat veel armer sou gewees het.

In 1997 was Suid-Afrika die hooftema van die Boekenbeurs voor Vlaandere wat in November in Antwerpen plaasgevind het. Tydens die Beurs verskyn Daniel en Jean Pierre Rawie, ’n Nederlandse digter, saam op die verhoog. Daniel het van Rawie se gedigte in Afrikaans vertaal en hulle “steel die show” met hulle voordrag. Gawie Keyser berig dat hulle “samespraak ’n briljante, stil viering [was] van die krag van literatuur, en veral ook van die konneksie wat tussen die twee taalgemeenskappe bestaan”.

In 1998 was Daniel die sameroeper van die woordkunskomitee vir die KKNK en vanaf 1999 tot 2001 lid van die kunstekabinet van die KKNK. In 2016 word hy aangestel as samesteller en aanbieder van die skrywersprogram van die KKNK wat hy gedoen het tot 2018.

In 2007 lewer Daniel ’n lesing oor die Afrikaanse taal getitel “Ek is ’n arme boerenôi” by die Oliewenhuis Kunsmuseum in Bloemfontein en in 2008 word hy genooi om die jaarlikse DF Malherbe-gedenklesing by die Universiteit van die Vrystaat te lewer. Sy lesing is getitel “Die geheime werking van literêre invloed: DJ Opperman en DF Malherbe”.

As omroeper was Daniel ’n huishoudelike naam oor die Afrikaanse diens van die SAUK. Hy was verantwoordelik vir die programme Skrywers en Boeke en Leeskring – twee programme wat die taal en letterkunde landwyd bevorder het. Daniel staan bekend as ’n onderhoudvoerder wat moeiteloos daarin slaag om skrywers bedrewe aan die praat te kry. Sarel Myburgh, destydse hoof van Radiosondergrense, se raad aan Daniel was dat die beste omroeper die een is wat die minste sê.

Na ’n onderhoud wat Daniel in 2005 met André P Brink gevoer het, skryf Margot Luyt dat Daniel een van die beste onderhoudvoerders bly: “Hy prikkel sy gas of kenner en sit dan terug sodat dié kan praat. Hugo het geen behoefte om die aandag op homself te vestig nie en stel die meeste van die tyd intens belang in wat die ander persoon sê.”

Hy was ook die aanbieder van die taalnavrae-rubriek Die tale wat ons praat en die samesteller van die Perspektief-program Afrikaans en Nederlands na aanleiding van ’n besoek aan Nederland in 1992.

Hy wen tien keer die ATKV-radioprys en twee keer die Radio Artes vir hoorbeelde oor die Afrikaanse letterkunde. In 1998 word hy bekroon met ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy hoorbeeld oor Uys Krige, Troebadoer van die woord. In 2015 vereer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Daniel deur die SA Akademie-prys vir vertaalde werk aan hom toe te ken vir die vertaling van Tom Lanoye se Sprakeloos wat in 2011 by Protea Boekhuis verskyn het. Hierdie eer val hom weer te beurt toe die Akademie hom in 2017 bekroon vir die vertaling van Stefan Hertmans se roman Oorlog en terpentyn.

Daniel is vanaf 2002 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het tot 2009 in die letterkundige komitee van die Akademie gedien. Hy is ook lid van die Nederlandse Maatschappij der Letteren vanaf 2000.

Daniel ontvang in 2004 die toekenning as Boekjoernalis van die Jaar. Die beoordelaars beskou hom as ’n “gesaghebbende, vermaaklike, welbelese en invloedryke stem in die boekjoernalistiek” en prys hom vir sy bereidwilligheid om blootstelling te gee aan onbekende skrywers en polities omstrede werk. Hulle maak ook gewag van sy “goeie oordeel en oorspronklike insigte”. Vir hom lê die grootste genot van sy werk as omroeper in die saamstel van die program.

Daniel voel hartstogtelik oor die Afrikaanse taal – “dit is my troetelkind waardeur ek al my ander liefdes besing: die see, die Kaap, die landskap van sy jeug. Daarmee lig ek onsekerheid uit, bevraagteken onreg en speel geloof en ongeloof teenoor mekaar af.”

In Maart 2008 bedank Daniel as omroeper by die SAUK na ongeveer 20 jaar. Hy het gesê dat sy stap niks te make gehad met ontevredenheid of moeilike werksomstandighede by die openbare uitsaaier nie. “Daar was net nie eintlik verdere ontwikkelingsmoontlikhede vir my nie. Dit is ’n gulde geleentheid om iets nuuts en uitdagends te doen,” het hy in Die Burger van 3 Maart 2008 aan Sanri van Wyk gesê.

Sy kundigheid was nie vir die SAUK verlore nie aangesien hy nog steeds by programme oor boeke en skrywers betrokke sou wees.

Daniel is in 2003 aangestel as lid van die Adviesraad van die Huis der Nederlanden, die inligting- en kultuursentrum van die Lae Lande, in Pinelands naby Kaapstad en nadat hy in 2008 by die SAUK bedank het in Maart 2008, is hy aangestel as uitvoerende direkteur van die instansie.

Oor hierdie werk vertel Daniel aan Jacques Liebenberg in Beeld (28 Maart 2008): “Die bedoeling is om sekere projekte aan te voor om die Nederlandse en Vlaamse kulture aan Afrikaanssprekendes bekend te stel. Die huis, wat al tien jaar bestaan, is ’n informasiesentrum vir die Nederlandse kultuur. Hy’t ’n baie goeie biblioteek, maar daar is nie projekte om Afrikaanssprekendes te betrek nie. Dit het maar ontaard in ’n bymekaarkomplek vir Nederlanders en Vlaminge en het nog nie naastenby sy volle potensiaal bereik nie.

“Die kontak tussen Nederlands en Afrikaans is bietjie skraal. Mense in Suid-Afrika lees nie meer Nederlands nie. Ek het op skool nog Nederlandse boeke lees. Dit het eintlik ’n vreemde taal hier geword. Maar Afrikaans- en Nederlandsprekendes het méér as net die taal. Ons verstaan mekaar goed, al lees ons mekaar nie. En daar’s die kunswêreld en argitektuur.”

In 2016 word die Van Ewijck-stigting se prestasiebeurs aan Daniel toegeken vir die bevordering van kulturele betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika.

Met die begin van die Avbob-poësieprojek in 2017 is Daniel aangestel as die Afrikaanse redakteur.

Tans is Daniel werksaam as vryskutredakteur, vertaler, keurder en proefleser, asook ’n literêre resensent. Hy is getroud met Marlene en hulle woon op Prins Albert in die Karoo.

’n Boek wat ’n onuitwisbare indruk op Daniel gemaak het, is Breyten Breytenbach se digbundel Voetskrif van 1976. Hy was toe ’n vierdejaarstudent in die letterkunde. 

Hy vertel aan Beeld van 15 Augustus 2011: “In daardie jare van baksteenrooi bundels met slegs letterwerk op die omslag is hierdie laaste boek van Breyten, voordat hy sewe jaar lank in die gevangenis verdwyn het, pragtig deur Perskor uitgegee. Op die oorheersende swart agtergrond is ’n klein vierkantige selfportretjie van ’n geblinddoekte Breyten in die onderste linkerhoek geplaas. Hy is met ’n soort leisel verbind aan ’n bulhond wat baie soos die destydse eerste minister John Vorster lyk. Die skilderytjie lyk nie verniet soos ’n selvenster nie, want die gedigte in Voetskrif is geskryf terwyl die digter in voorarres was op ’n aanklag van terroristiese bedrywighede …

“Ek onthou hoe die besonder toeganklike gedigte in die bundel my meegevoer en ontroer het. Van Breyten se mooiste liefdesverse vir sy vrou staan daar. Die volgende reëls is van die vernuftigste en sjarmantste in Afrikaans: ‘… jy is die hitte van my palms / jy is die pitte van my dadels die hittete van my daad / jy is die asem van my lippe’. Daar staan ook van sy mees onthutsende verse, soos die een oor die terdoodveroordeeldes ‘wat sing asof julle lewens daarvan afhang / en julle weet dat julle lewens gaan hang.”

“In my vertroetelde eksemplaar van Voetskrif is daar ’n hele klomp vergeelde koerantknipsels uit daardie tyd. Benewens die resensies vol lof van André P Brink, Abraham de Vries en FIJ van Rensburg is daar ook ’n knipsel uit Rapport waarin berig word dat Koot Vorster (die eerste minister se bulhondbroer) die bundel as ‘snert’ afgemaak het, sonder dat hy dit gelees het. Hy het gesê dis ’n tragedie dat, terwyl Suid-Afrika se seuns aan die grens sterf, Breyten Breytenbach in die gevangenis sit en skryf.

“Koot het nogal ’n gawe gehad vir dramatiese retoriek, soos blyk uit die volgende aanhaling: ‘Die ink is skaars droog, dan word dit deur die pers gejaag en terwyl die drukkersink nog nat is, word hierdie onsin deur groot letterkundiges as kuns uit die boonste rakke opgehemel.’ En dan volg ’n uitspraak waaroor ek persoonlik te na gekom gevoel het: ‘Die naarste van alles is dat ons seuns en meisies aan ons universiteite dié snert vir soetkoek opeet.”

“Die tirade van hierdie godsman het my finaal teen die kerk laat draai. Van daardie dag af luister ek veel liewer na die intieme woorde van digters as na die gedeklameer van predikante.” 

Op Books Live is daar as volg geskryf oor Daniel se bundel Takelwerk wat in 2015 by Human & Rousseau verskyn het: “Met die titel, Takelwerk, beweeg Daniel Hugo nie net terug na die bekende beeldveld van die see en skeepvaart nie, maar verwys ook na DJ Opperman se vers ‘Digter’ waar die digter se arbeid uiteindelik lei na ‘klein stellasies vers // wat groei tot boeg en mas / en takelwerk’.

“Die bundel sluit verse in oor die digkuns en digterlike aktiwiteite. Die leser ervaar die wêreld van die digter deur sy oë en ore, sy sintuie, maar ook deur sy taal. Die spel-element is ook opvallend in baie verse, iets wat Hugo virtuoos met humor saamdig. Hiermee saam is ook die vernufsverse wat al sinoniem met Hugo se digterskap geword het. Talle verse staan uit vanweë die fyn ontginning van klank, woordspel & die ontplooiing van metafoor. Die verse spreek van ’n belewenis van die wêreld vasgevang tussen carpe diem & memento mori, verse oor landskappe en die heimwee van landskappe, oor natuurdinge en die mens (én die digter) se plek in die groter bestel. Dikwels word die landskappe ook bínneskappe, word hulle ingeskape.”

In By van 14 Maart 2015 is Louise Viljoen van mening dat daar baie in Takelwerk is waaroor resensente bly kan word en ook baie om te ondersoek. “Soos gebruiklik in Hugo se bundels kom hier ’n wye spektrum van temas aan bod: digterskap, taal, die Afrikaanse literatuur, die liefde, siekte en dood, godsdiens (veral in die gedaante van die Calvinisme), die oerknal en verskillende landskappe. Die bundel begin redelik wydlopig, maar namate groepe gedigte begin praat met mekaar, raak die fokus skerper en die indelf in ’n onderwerp meer deurtastend. (...) 

“Hugo is lank reeds bekend as ’n meester van die vernufsvers: Gedig ná gedig toon sy fyn aanvoeling vir klank en rym, die hantering van vaste vorme, die veelduidigheid van woorde, vindingryke woordspelings en goed deurdagte metafore. Met dié bundel voer hy die speelse vernufsvers tot nuwe hoogtepunte deurdat hy dit gebruik om ook die donker dele van mens- en digterwees te verken.”

In Rapport van 2 Maart 2015 skryf Joan Hambidge dat Daniel se digkuns saamgevat kan word as ’n “bemoeienis met die woord. Elke woord is goed gekies wat rym en klank betref en in die gedig word elke woord afgeweeg. Die invloed van die ­digter DJ Opperman is opmerklik, maar nie steurend nie. (...)

“Hugo is ’n vakman. Hiervan getuig die behendige hantering van rym- en klankpatrone. Daar is ook genoeglike woordspel aanwesig en dit doen nooit geforseerd aan nie; die teken van ’n suksesvolle digter. (...) Daar is verder verse oor die grammatika van liefhê en die netjies afgewerkte gedigte is vir die poësieliefhebber ’n plesier om te lees. (...)

“In hierdie bundel is daar nie alleen ’n gesprek met Opperman aanwesig nie, maar waarskynlik ook een met Ina Rousseau en haar Eden-gedig. Hugo het haar gebloemlees en die verskillende boom­gedigte soos ‘Die eik en die plataan’, ‘Plataan’ en die reeks ‘Stellenberg se eik’ kan as die sterkste in die bundel beskou word. Dit praat saam met die voorblad, geskoei op ’n foto, wat die takelwerk van ’n liefdesverbintenis voorstel: hoe mense in mekaar íngroei. Daar is inderdaad versreëls wat kweel en kwetter in hierdie bundel.”

Die titel van Takelwerk kom uit DJ Opperman se gedig ‘Digter’. Oor die invloed wat DJ Opperman op Daniel gehad het, het hy aan Willem de Vries in Die Burger (23 Februarie 2015) vertel: “Ek het meer van die digkuns uit Opperman se gedigte en AP Grové se opstelle daaroor geleer as by homself in die letterkundelaboratorium op Stellenbosch. Ek was in 1975 in sy klas – die jaar voordat hy weens lewerversaking in ’n koma gegaan het. Hy was toe reeds in ’n treurige toestand en het bitter min in die klas ­gepraat. Ná sy herstel het hy sy siektegeskiedenis triomfantelik in die bundel Komas uit ’n Bamboesstok verwerk.

“Sy poësie het vir my ’n nuwe wêreld geopen waarin intellek, sintuiglikheid en verstegniek ewe belangrik is. Ek het ook by hom geleer dat die digkuns nooit sentimenteel mag wees nie, dat emosie altyd ­beheersd en beeldend ­verwoord moet word. Verder het AP Grové se ontledings van sy ­gedigte al wat duister was, op­geklaar. Toe ek in 1980 begin klas gee aan die Universiteit van die Vrystaat, was Grové se ­blokboek oor ­Opperman se Komas uit ’n ­Bamboesstok vir my van ­onskat­bare waarde.

“Opperman was ook die keurder by Human & Rousseau wat my eerste digpogings – met reg! – af­gekeur het. Die titel van my ­tweede bundel, Die Klein Aambeeld (1983), is deur hom beklink. Dit verwys natuurlik na my voorliefde vir kort gedigte en in besonder vir die kwatryn, waarvan ­Opperman self ’n meester was. My MA-verhandeling het ­gegaan oor Opperman se sonnette­siklus ‘Brandaan’ wat die ­ver­werking is van ’n fantasieryke Middelnederlandse teks.

“Sy ­ver­moë om verlede en hede, vreemd en bekend, daar en hier, die ­mistieke en die aardse te laat rym, bly ongeëwenaar. Kortom, die grondslag van wat ek vandag van die poësie af weet, is deur Opperman gelê.”

Oor sy “muse” verduidelik Daniel op Versindaba aan Bernard Odendaal: “My Muse is besonder ongedissiplineerd; ek skryf wanneer iets my inval. (‘Begeestering’ is heeltemal ’n te groot woord vir my kreatiewe oomblikke.) En daardie iets wat my aanspoor is meestal die taal self – met ’n woordspel, ongewone rymwoord, prikkelende idioom, aforistiese frase, ensovoorts. Dan word dié inval uitgewerk en ’n konteks gegee deur dit te verbind met iets wat ek gehoor, gesien, gelees of selfs gevoel het. Emosie is die laaste ding wat my inspireer om ’n gedig te skryf. (Soms tog wel.) Die digkuns is vir my verstandswerk, ’n vernufspel met die taal en poëtiese vorm. In sekere gedigte veroorsaak dié spel wel ’n emosionele reaksie by die leser – en selfs ook by die digter! Maar die gevoelseffek van ’n gedig op die leser is nie ’n finale maatstaf vir die geslaagdheid daarvan nie. Vir my is poësie ’n produk van die brein, nie van die hart nie. En die brein beheer nie net emosie nie, maar begryp dit ook. Dit is die rede vir die poëtiese paradoks: hoe intelligenter die digter en die leser, hoe diepgaander is die emosionele werking van die vers. Maar ’n gedig kan ook geniet en waardeer word as suiwer vakmanskap. En – weer ’n paradoks – estetiese bewondering vir vakwerk kan ook ’n emosionele belewenis wees.”

In 2018 verskyn Vers & kapittel met die subtitel artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns by Kraal Uitgewers. Die boek van Daniel is tydens ’n ATKV-poësieaand op Prins Albert bekendgestel. Dit bevat van sy gepubliseerde meningstukke, ontledings, resensies en toesprake wat hy oor 40 jaar geskryf het.

Daniel het aan die gehoor verduidelik (De Hoorn, 21 Junie 2018) waarom “kapittel” by die titel ingesluit is. “Terwyl ‘vers en kapittel’ die be­tekenis van ‘deeglik’ en ‘volledig’ het, is ’n ‘kapittel’ ook ’n sino­niem vir ‘hoofstuk’ – maar ek ‘kapittel’ ook akade­mi­ci en letterkundige teoretici in my boek ‘oor die soms verbeelding­lose toepassing van teo­rieë wat literêre tekste kan doodmartel. Dis boonop dikwels onleesbaar, onverstaanbaar’,” het hy gesê. “Daar sal waarskynlik ge­leer­des wees wat hul wenkbroue vir dié stelling sal lig.”

Op LitNet gee Francois Bekker sy indrukke as leser en ook as ’n leek op die gebied van die poësie weer: “Die einste Cecile Cilliers wat onlangs oorlede is, het iewers geskryf dat ons ’n volk van poësieskrywers is. Maar, het sy gevra, is ons ’n volk van poësielesers? ’n Vraag wat my dikwels treiter omdat ek so skugter vir die poësie is. My kennis oor dié genre skiet eenvoudig tekort.

“Met ’n skeut waagmoed dus het ek Daniel Hugo se Vers & kapittel aangeskaf. Dié bundel is ’n versameling van Hugo se artikels, rubrieke en naskrifte oor die poësie wat meesal in dagblaaie verskyn het. Gerusstellend het ek geweet dat Hugo met wyd erkende gesag oor die onderwerp skryf. Vers & kapittel bevestig hom as ’n kenner van dié genre.

“Veral drie indrukke staan vir my uit na die lees van die boek: hoe die poësie funksioneer, allerlei interessante wetenswaardighede en Hugo se persoonlike bemoeienis met poësie.

“’n Goeie voorbeeld van hoe poësie funksioneer, en daarmee saam die vertaling van klassieke werke in Afrikaans, is die behandeling van Omar Khajjam se Die Roebaijat. Die kwatryn as versvorm word wydlopig behandel. Hiermee saam word die uitdagings rondom die vertaling van gedigte uiters onderhoudend onder die loep geneem. In hierdie verband stel Hugo dit so: ‘Die graad van kulturele sofistikasie wat ’n taal bereik het, word dikwels gemeet aan die vertalings van klassieke tekste uit die wêreldletterkunde’ (95). Die stuk oor Goethe in Afrikaans onder die opskrif ‘Die Vermetelde Vertaler’ is aangrypend mooi. Wat ’n mens bybly met die vele invalshoeke van die digkuns is die wonder van die woord.

“Wat wetenswaardighede betref, is daar net te veel om in ’n enkele resensie te noem en ek volstaan met een voorbeeld. Dit is insiggewend om te dink dat die Afrikaanse digkuns, teoreties gesproke, alreeds 900 jaar oud is! Dit het inderdaad alles by ’n monnik in ’n klooster begin (96).

“Daniel Hugo koester die digkuns van kindsbeen af en leef dit elke dag uit. Dít lei ’n mens deeglik af met vele outobiografiese mededelinge. So kan die verbintenis tussen hom, sy pa en Elisabeth Eybers as astraal aandoenlik beskryf word. Wat ’n diep indruk op my gemaak het, is die respek waarmee Hugo as ongelowige die werk van gelowige digters behandel.

Vers & kapittel is ’n besondere stuk werk wat ’n poësie-groentjie soos ek daartoe kan beweeg om met toenemende waagmoed na digterlike tekste te kyk.”

Op Woorde wat weeg eindig Joan Hambidge haar resensie as volg: “Dit is ’n moderne Rondom eie werk en Kaneel. Liefhebbers van die digkuns sal dit geniet vir die skryfplesier wat blyk uit elke bydrae en dosente sal dit eweneens handig vind om jong lesers die waarde van stiplees te leer. ’n Tersaaklike boek uit die hand van 'n bekroonde vertaler.”

openbare domein is Daniel se vyftiende digbundel – sestiende as Saad uit die septer wat onder ’n skuilnaam geskryf is, bygetel word. Dit word in 2018 by Naledi Uitgewers gepubliseer.

Die buiteblad van openbare domein is ’n foto van Daniel en Marlene se huis se voordeur op Prins Albert; die bodeur staan oop en laat die vroegoggendson inskyn. Daniel verduidelik aan Gisela Ullyatt op Versindaba hoekom hy juis hierdie foto van Marlene as buiteblad gekies het: “’n Gedeelte van ons vetplanttuin en die Karoo-rante in die verte is sigbaar. Die deur simboliseer die skeiding tussen binne en buite, tussen die private en openbare. Die halfoop deur nooi die leser die bundel binne, en gee hom beperkte toegang tot wat in die studeerkamer en slaapkamer gebeur, maar omgekeerd ook tot wat buite in die tuin afspeel.

“Ek het, nadat die grafiese uitleg van die manuskrip voltooi was, spesiaal ’n gedig vir die agterblad oor daardie voorbladfoto geskryf. Die titel is ‘Voordeur’, en staan dus eintlik op die plek waar die bundel se agterdeur moes wees:

die dag dring die kamer binne 
met klank en kleur, met geur en lig 
die woordventer kom tot sinne 
begin stamel aan ’n gedig.

die teks het sy eie drumpel 
waaroor woorde versigtig tree: 
wat binnerym sag laat rimpel 
word in die buitelug geskree.

Daniel vertel aan Ulyatt ’n bietjie meer oor hierdie gedig: “Die eerste strofe bevat ’n bedekte verwysing na Eben Venter, skrywer van onder meer die roman Ek stamel ek sterwe: ‘die woordventer kom tot sinne / begin stamel aan ’n gedig’. Die ‘woordventer’ dui natuurlik in die eerste plek op myself, maar ek het die vrymoedigheid geneem om Eben se naam hier te laat eggo, aangesien die huis op Prins Albert voorheen aan hom behoort het. Verder het ek die gedig ‘Die skrywer se kat’ (72) aan hom opgedra. En in ‘Selfportret’ (58) verwys ek na sy roman Foxtrot van die vleiseters. Ek bedoel dit alles as ’n huldeblyk aan hom, en uit dankbaarheid dat ons elke dag plesier het aan die huis en tuin wat hy en sy lewensmaat Gerard Dunlop met soveel sorg tot stand gebring het. Die bundel as geheel is egter aan Marlene, die geliefde fotograaf, opgedra.”

Ullyatt wou weet of Daniel dit nog geniet om te dig en hy het dit onomwonde gestel dat om gedigte te skryf, vir hom nog altyd ’n vreugde was. “Daar is min mense wat in die posisie is om voltyds gedigte te kan skryf, soos Emily Dickinson of Gerrit Achterberg. Gelukkig verdien ek deesdae my brood uitsluitlik met literêre dinge: vertaling, keuring, redigering, resensering, werkswinkelaanbiedings en voorlesings. Ek het intussen ook my beperkings as digter leer ken – ‘groot odes’ soos wat Van Wyk Louw en ander kon fabriseer, is buite my bereik. Terloops, die ode-skrywende Louw maak sy verskyning in ‘Tantalus’ (51), waarin ek ook wys op die negatiewe effek wat so ’n allesoorheersende obsessie met die digkuns op persoonlike verhoudings kan hê. Realistiese ambisie voorkom frustrasie, het ek geleer.”

Oor openbare domein skryf Joan Hambidge (Woorde wat weeg) dat Daniel Hugo in hierdie bundel hom bemoei met “kaart en transport”.

“Dit is ’n bestekopname van die ouer digter wat terugkyk na sy jeug, sy sieninge oor geloof soos in ‘Stoepsermoen’ (12), die natuur, die mens se bestaan op aarde (en hierby inbegrepe die misterie van lewe en dood). Ontslape digters word aangespreek soos Lorca, Opperman, Uys Krige, Hennie Aucamp, Barend J Toerien, Phil du Plessis, Gerrit Komrij en Ina Rousseau. Daar is gesprekke met Van Wyk Louw, Breytenbach en Johann de Lange, ’n kopknik na MM Walters en Pieter Fourie. Op ’n keer land Totius, Marais en Trantraal in een gedig (‘Winternag’). (...)

“Daar is kritiek op die selfie-generasie en huldeblyke oor gestorwenes. Aangrypende gedigte oor huisdiere en selfspottende verse oor katers. Die digter is telkens besig met ’n siening van die digkuns en watter belangrike plek dit in sy lewe neem ... (...)

“Daar is vernuftige, speelse verse soos:

Goliardegebed

Here, vergeef my al my flaters 
my wilde kapaters 
saam met gewillige maters 
en meisies – snoer tog die snaters 
van jaloerse haters 
en agterafpraters 
daardie gefrustreerde ou saters 
met verkrimpte knaters 
Here, bewaar my van die paters 
met hulle wywaters 
en ná diep nagte met konfraters 
Here, lawe my oggendkaters

“Vir my is Hugo ’n onbetwiste vakman. Hy is op sy beste wanneer hy speels dig en sy portretgedigte oor ander digters is onthoubaar. Die liefdesgedigte in hierdie bundel vind ek minder. (...) Die digter ondersoek dieselfde bekende temas in sy digkuns en die meeste digters keer telkens terug na dieselfde ‘scene of the crime’. Dit sou ’n  interessante studie wees vir die speurende leser om te sien hoe Hugo temas hérbesoek en ontwikkel. Prins Albert word in mooi gedigte herken as ’n ruimte van inspirasie.

“Daar is wel in hierdie bundel ’n groter bewustheid van die natuur en die mens se geringheid binne die groter opset van die kosmos.”

Op Versindaba laat Bernard Odendaal hom as volg uit oor openbare domein:

“In sy vroeë bundels, soos in Breekware vir die revolusie van 1984, was Hugo se maatskaplik-politieke betrokkenheid opvallend. Algaande het dit meer op die agtergrond begin staan in sy verskuns, eerder uiting gevind in ’n blywende besorgheid oor die lot van Afrikaans of oor die impak van die mens se doen en late op die natuur.

“Hy skryf ’n soort digkuns wat meteen as ‘digterlik’ herkenbaar is, maar toeganklik bly. Hy is ’n klankgedrewe en -gerigte digter; die gedig is vir hom in hoofsaak ’n klankkonstruksie, vertel hy in die onderhoud oor openbare domein elders op hierdie selfde webblad. Ten spyte daarvan dat hy meer as een maal in die bundel met homself as ‘rymer’ die spot dryf, kan hy ook ietwat gunstiger oor die aangevoelde resultate daarvan in ’n gedig soos die volgende getuig:

Die gerymde 

vir altyd sal ek jou vurig liefhê 
dit bly makliker gedoen as gesê 
want woorde het net soos metaal gewig 
en moet prut in die kroes van ’n gedig 
’n fyn ketting kan ek dan vir ons twee 
met klingelende skakels silwersmee 
hulle kunstigheid sal ons broos omsluit 
en die barbaarse tyd kortstondig stuit[.]

 “Die taal- en interteksspel en die dikwels spitsvondige beeldingsvernuf vonkel egter ewe helder as die klankkomposisie in Hugo se digwerk. Raaksê is die strewe – om die wat en hoe van die sê as ’t ware te laat voeg soos in uitnemende skrynwerk. Dáárop eers is iets van die dinge en die menslike belewenisse en aanvoelings stewig staan te maak, is die private met groter geldigheid in die openbare domein te plaas. Nie om dowe neute nie is die taal, die poësie self en digterskap durende motiewe in sy oeuvre. (...)

“Met onblusbare humorsin en sanerende selfspot en ironisering pak Hugo sy digterstaak aan, al steek daar erns in die sake ter sprake. Hy dwing hom as ’t ware om realisties (beskeie) in sy selfinskatting te bly. (...)

“Naas geboeidheid met die taal- en verskunsvernuf, put die leser dus veel wat innemend onderhoudend is in Hugo se verse. [O]penbare domein bevestig en versterk wat ’n mens van Hugo se oeuvre leer verwag het. Temas kenmerkend geword van sy digkuns, staan weer in die kalklig. Hiervan getuig al die groepering van die gedigte in vier afdelings wat, breedweg gesien (en telkens aangedui in kort mottogedigte), handel oor I) ’n (nuwe) tydelik-aardse verblyfplek (Prins Albert in die Groot Karoo), II) die (nooit volprese) liefde, III) digterskap en digterlike kreatiwiteit (wat digterhuldigings en –satirserings insluit) en IV) ’n (meermaals religieus getinte) nietigheidsbesef. Die genoemde temas word uiteraard nie geskeie van mekaar gehanteer nie; iets van die vervlegtheid in die aanbod daarvan blyk al uit die titelloosheid van die bundelafdelings.

“Temas wat openbare domein wel betreklik onderskei van Hugo se vorige bundels, is die prominensie daarin van die Karoolandskap (waar hy en sy vrou hul meer blywend bevind sedert die verskyning van sy vorige bundel, Takelwerk); die swartgalligheid oor Afrikaans en sy hoër funksies in die toekoms, meer uitgesproke as ooit; laastens, in veral die slotafdeling, ’n ietwat opvallender verwoording van spirituele gewaarwordings (naas grinterig uitgesproke twyfel oor godsdienstigheid). (...)

“By die geboeide, genoeglike lees van openbare domein het ’n vraagstuk my bly kwel. Dit betref die klaarblyklike voorrangplekke wat nuutmaking/vernuwing en (hermetiese) digtheid in literêr-estetiese en -kritiese oorwegings geniet, sy dit op tematiese, stilistiese of vormlike vlak (of kombinasies daarvan) – soos dit byvoorbeeld in prystoekennings binne die Afrikaanse literêre wêreld uiting vind. Steek die inkrementele bekragtiging van ’n skrywerskapbeeld, in bundel op bundel, noodwendig af by publikasies waardeur ander digterskappe op kennelik (en doelbewus) vernuwende koerse geplaas word? Is verfyning en nuansering van ’n vertroude blik en aanpak wesenlik minderwaardig aan ’n heruitvinding of -ontwerp van mededingers s’n? (...)

“Met openbare domein kom staan Daniel Hugo poësieliefhebbers opnuut, met onmiskenbare sprankel, as ’n toonaangewende Afrikaanse digter voor die oog.”

Publikasies:

Publikasie

Sy kom met die sekelmaan [deur] Hettie Smit (Blokboek)

Publikasiedatum

1981

ISBN

0868741353 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Na die geliefde land [deur] Karel Schoeman (Blokboek)

Publikasiedatum

1981

ISBN

0868741213 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Academica

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brekfis met vier; saam met Peter Snyders, Etienne van Heerden en André le Roux du Toit

Publikasiedatum

  • 1981 
  • 2005

ISBN

  • 0908422601 (hb) 
  • 0798145374 (sb)

Uitgewer

  • Bellville: Skoppensboer 
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Saad uit die septer: ’n storieboek met ’n les vir die volk synde die apokriewe liefdeskroniek van ene Daan van der Merwe

Publikasiedatum

  • 1981 
  • 2005

ISBN

  • 0796400633 (hb) 
  • 1869190998 (hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: PJ de Villiers 
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Korte mette

Publikasiedatum

1982

ISBN

079811312X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die klein aambeeld

Publikasiedatum

1983

ISBN

0798115068 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Buitekamerklanke

Publikasiedatum

1983

ISBN

0628024347 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Breekware vir die revolusie

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117222 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die boek Daniel

Publikasiedatum

1986

ISBN

079811942X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vuurdoring

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798623071 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verse van die ongeloof

Publikasiedatum

1989

ISBN

0798629584 (hb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dooiemansdeur

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624031020 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Monnikewerk

Publikasiedatum

1995

ISBN

062403383X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skeurkalender

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036618 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Versalbum [laserskyf]

Publikasiedatum

2001

ISBN

1919890432

Uitgewer

Parow: Contentlot.com

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die twaalfde letter

Publikasiedatum

2002

ISBN

1919825983 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die geheime werking van literêre invloed: DJ Opperman en DF Malherbe

Publikasiedatum

2008

ISBN

(sb)

Uitgewer

Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat

Literêre vorm

DF Malherbe-gedenklesing 27

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die panorama in my truspieël

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781869192969 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

NP van Wyk Louw en die geestige vers in “Tristia”

Publikasiedatum

2011

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Universiteit van Johannesburg

Literêre vorm

NP van Wyk Louw-gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hanekraai

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781869197636 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Takelwerk

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798169257 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vers & kapittel: artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780994715944 (sb)

Uitgewer

Centurion: Kraal Uitgewers

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

openbare domein

Publikasiedatum

2018

ISBN

9781928426073 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Finalis ATKV-Woordveertjie vir poësie 2019

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Daniel Hugo as samesteller en redakteur

  • Speelse verse: ’n keur. Kaapstad: Tafelberg, 1988 [ISBN 0624026116 (hb)]
  • Miskien sal ek die wingerd prys: ryme en gedigte oor drank/ saam met Etienne van Heerden. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028429 (hb)]
    • Van Niekerk, AAJ: Storie-konsertina: humoristiese verhale: ’n keur. Durbanville: Klipbok, 1993 [ISBN 0907993338 (hb)]
  • Kirsch, Olga: Nou spreek ek weer bekendes aan: ’n keur 1944–1983. Kaapstad: Human & Rousseau, 1994 [ISBN 0798132965 (hb)]
  • Philander, PJ: PJ Philander: ’n keur uit sy gedigte. Kaapstad: Tafelberg, 1996 [ISBN 0624034984 (sb)]
  • Aucamp, Hennie: Lyflied: ’n keur uit sy liedtekste. Kaapstad: Tafelberg, 1999 [ISBN 0624037568 (sb)] 
  • Nuwe verset / saam met Leon Rousseau en Phil du Plessis. Pretoria: Protea Boekhuis, 2000 [ISBN 1919825282 (sb)] 
  • Tydskrif: ’n herontmoeting met vroeë Afrikaanse kortverhaalskrywers. Pretoria: LAPA, 2001 [ISBN 0799329215 (sb)] 
  • Tydskrif 2’n herontmoeting met vroeë Afrikaanse kortverhaalskrywers. Pretoria: LAPA, 2001 [ISBN 0799330558 (sb)] 
  • Rousseau, Ina: Die stil middelpunt: ’n keur, met nuwe gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 [ISBN 0798143614 (sb)]          
  • Liefde, natuurlik: ’n bundel liefdesverhale / saam met Carina Diedericks-Hugo. Pretoria: LAPA, 2004 [ISBN 0799332739 (sb)]          
  • Land van sonlig en sterre: ’n bundel gedigte oor Namibië. Pretoria: Protea Boekhuis, 2004 [ISBN 1869190661 (sb)] 
  • Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis, 2009

Daniel Hugo as vertaler uit Nederlands

  • De Coninck, Herman: Liefde, miskien. Kaapstad: Queillerie, 1996 [ISBN 1874901058 (sb)] 
  • Lanoye, Tom: Kartondose. Kaapstad: Queillerie, 1996 [ISBN 1874901609 (sb)] 
  • Van Veen, Herman: Op pad huis toe­. Holland: Harlekijn. 1996 [ISBN 906386120 6] 
  • Vandeputte, O: Nederlands: die taal van twintig miljoen Nederlanders en Vlaminge. Amsterdam: Stichting Ons Erfdeel, 1997 
  • Mulisch, Harry: Die aanslag. Kaapstad: Queillerie, 1999 [ISBN 1874901872 (sb)] 
  • Glastra van Loon, Karel: Passievrug. Kaapstad: Queillerie, 2002 [ISBN 0795800134 (sb)] 
  • Van Reybrouck, David: Die plaag: die stil geknaag van skrywers, termiete en Suid-Afrika. Pretoria: Protea Boekhuis, 2003 [ISBN 1869190580 (sb)] 
  • Komrij, Gerrit: Die elektries gelaaide hand: gedigte. Pretoria: Protea Boekhuis, 2005 [ISBN 1869191013 (sb)] 
  • Lanoye, Tom: ’n Slagterseun met ’n brilletjie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2008 
  • Schlichting, Liesbeth, Sluyzer, Betty en Verburg, Marja: My eerste HAT – die eerste ware woordeboek vir kinders. Kaapstad: Pearson Education South Africa, 2009 
  • De Coninck, Herman: Die lenige liefde. Pretoria: Protea Boekhuis, 2009 
  • Aspe, Pieter: Die Midasmoorde. Pretoria: LAPA, 2010 
  • Aspe, Pieter: Die vierkant van die wraak. Pretoria: LAPA, 2010 
  • Terlouw, Jan: Die koning van Katoren. Pretoria: Protea Boekhuis, 2010 
  • Vanden Heede, Sylvia: Vos en Haas. Pretoria: Protea Boekhuis, 2010 
  • Kopland, Rutger: Onder die appelboom. Pretoria: Protea Boekhuis, 2010 
  • Van Rijckeghem, Jean-Claude & Van Beirs, Pat: Jonkvrou. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Lanoye, Tom: Sprakeloos. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Vanden Heede, Sylvia: Totsiens, Vos en Haas. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Vanden Heede, Sylvia: Wolf en Hond. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Moeyaert, Bart: Broers. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Van Dis, Adriaan: Tikkop. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011
  • Van Hee, Miriam: In plaas van stilte. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 [ISBN 9781869195434 (sb)]
  • Provoost, Anne: Die arkvaarders. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Schmidt, Annie M.G.: Minoes. Pretoria: Protea Boekhuis,2011 
  • Vanden Heede, Sylvia: Wolf, Hond en Kat. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012 
  • Vanden Heede, Sylvia: Vos en Haas. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012
  • Vanden Heede, Sylvia: Hallo, Vos! Hallo, Haas! Pretoria: Protea Boekhuis, 2012 
  • Van Rijckeghem, Jean-Claude & Van Beirs, Pat: Galgmeisie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012 
  • Terlouw, Jan: Soektog in Katoren. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012 
  • Schaffer, Alfred: Kom in, dit vries daar buite. Pretoria: Protea Boekhuis, 2013 
  • Bakker, Gerbrand: Bo is dit stil. Pretoria: Protea Boekhuis, 2013 
  • Koch, Herman: Die aandete. Pretoria: Protea Boekhuis, 2013
  • Lindelauf, Benny: Nege oop arms. Pretoria: Protea Boekhuis, 2013 
  • Robben, Jaap: Die suurtjies. Pretoria: Protea Boekhuis, 2013 
  • Lindelauf, Bennie: Die hemel van Heivisj. Pretoria: Protea Boekhuis, 2013 
  • Goldschmidt, Saskia: Die hormoonfabriek. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014 
  • Swaab, Dick: Ek is my brein – van baarmoeder tot Alzheimer. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014 
  • Van Genechten, Guido: Die groot poefwedstryd. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014 
  • Van Daele, Henri: Reinaard die vos: Die wrede een met die rooi baard. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014 
  • Van de Heg, Lisette: Mara. Kaapstad: Lux Verbi, 2014
  • Nolens, Leonard Nolens: ’n Digter in Antwerpen. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 
  • Terlouw, Jan: Oorlogswinter. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 
  • Lanoye, Tom: Gelukkige slawe. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 
  • Koch, Herman: Vakansiehuis met swembad. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 
  • Biegel, Paul: Die rooi prinses. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 
  • Van de Vendel, Edward: En toe kom Tom. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 
  • Hertmans, Stefan: Oorlog en terpentyn. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016 
  • Biegel, Paul: Die klein kaptein. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016 
  • De Graaff, Bart: Ware mense. Pretoria: Protea Boekhuis, 2017 
  • Westerman, Frank: El Negro en ek. Pretoria: Protea Boekhuis, 2017 
  • Verhulst, Dimitri: Die helaasheid van die dinge. Pretoria: Protea Boekhuis, 2018 
  • Van Dis, Adriaan: Ek kom terug. Pretoria: Protea Boekhuis, 2018 
  • Barnard, Benno: Die trouservies. Kaapstad: Naledi, 2019 
  • Tritsmans, Marc: Die singende wêreld. Kaapstad: Naledi, 2019 
  • De Graaff, Bart: Barend Barends: die vergete kapteon van Danielskuil. Paternoster Books, 2019 
  • Claus, Hugo: Die verdriet van België. Pretoria: Protea Boekhuis, 2020

Daniel Hugo as vertaler uit Engels

  • Stevenson, Robert Louis: My skaduwee. Kaapstad: Anansi, 1991 [ISBN 0947454640 (sb)] 
  • Posner, Pat: Fantastiese verhale uit die Griekse mitologie. Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 [ISBN 0798143886 (hb)] 
  • Posner, Pat: Griekse gode en godinne uit die mitologie. Kaapstad: Human & Rousseau, 2003 [ISBN 0798143894 (hb)] 
  • Barker, Cicely Mary: My blommefeetjies-bababoek. Kaapstad: Human & Rousseau, 2006 [ISBN 0798146265 (sb)] 
  • Arlon, Penelope: Loergaatjie-reeks: Voëls, Bome, Plante, Water. Kaapstad: Human & Rousseau, 2007 
  • Scarry, Richard: Die beste rympies ooit. Pretoria: Protea Boekhuis, 2009 
  • Slingsby, Peter: Die skakel (The joining). Baardskeerder, 2009 
  • Tutu, Desmond: God se kinders: verhale uit die Bybel (Die Desmond Tutu-Kinderbybelprojek). Kaapstad: Lux Verbi, 2010
  • Nordqvist, Sven: Die verjaardagkoek. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Nordqvist, Sven: Die jakkalsjag. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Nordqvist, Sven: Pettson gaan kampeer. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012 
  • Nordqvist, Sven: Klein Fielies raak weg. Pretoria: Protea Boekhuis, 2012 
  • Small, Adam: Goree. Kaapstad: Tafelberg, 2013 
  • Omar: Die Roebaijat van Omar Khajjam. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014 
  • Poland, Marguerite: Die bewaker. Johannesburg: Penguin SA, 2014 
  • Nordqvist, Sven: Fielies se nuwe huisie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 
  • Nordqvist, Sven: Een minuut vir die haan. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015
  • Kotzé, Joyce: Wintersrust. Kaapstad: Jonathan Ball, 2017 [ISBN 9781868427338 (sb)]
  • Roth, Egonne: Olga Kirsch - ’n lewe in gedigte. Kaapstad: Naledi, 2018

Daniel Hugo as vertaler uit Duits

  • Baltscheit, Martin: Hond sal dit beslis nie wees nie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011 
  • Damm, Antje: Karnallies. Pretoria: Protea Boekhuis, 2011

 ’n Keur uit artikels oor Daniel Hugo beskikbaar op die internet

Artikels deur Daniel Hugo beskikbaar op die internet

Gedigte

  • Afrorisme 
  • Credo 
  • Digters 
  • Digterstuin: Die digter se tuin
  • Drinklied 
  • Dubbelsinnig
  • Haikoe-kompetisie: Haikoe 4 
  • Haikoe-kompetisie: Haikoe 3 
  • Haikoe-kompetisie: Haikoe 2
  • Haikoe-kompetisie: Haikoe 1 
  • Haikoe-oomblikke 
  • Japanese skryfskool 
  • Kersfees in die Karoo  
  • Komposisie 
  • Laatherfs 
  • Mont du Toit Wynkwatryn 
  • Nagmusiek  
  • Omar die tentmaker 
  • Ou man langs die see  
  • Oujaarsaand 2008  
  • Oujongnooi 
  • Padlangs, 1980 
  • Sinne en sin 
  • Slotsom 
  • Sonland  
  • Sonnet 
  • Stamvader 
  • Stormnag 
  • Suidooster, Muizenberg  
  • Telkom en kliënt 
  • Vilanelle 
  • Vir Hennie Aucamp 
  • Vloekskoot

(Daar mag dalk leemtes wees in die publikasielys – die opsteller vra om verskoning, maar is afhanklik van berigte in die pers, NALN se knipselversameling en die internet vir die inligting.)

  • Bygewerk op 8 Januarie 2020

The post Daniel Hugo (1955–) appeared first on LitNet.

Anlen Marais (1953–)

$
0
0

Foto: verskaf

SêGoed van Anlen Marais:

“Poësie is vir my ’n medium wat ’n byna religieuse toewyding eis van wie daarmee besig wil wees.”

“As digter sal ek altyd Afrikaans bly. Dis die taal waarin die wonderbare stuk geel kaas van die maan vir altyd sawens voor my sal opkom.” (Die Burger, 20 Maart 1999)

Hoe gaan sy te werk as sy dig? “Soms kom dit gou. Maar meestal is dit ’n lang proses van besinning. Dis nie makliker (of vinniger) om ’n gedig te skryf – as sê – ’n drama nie.” (Insig, Februarie 1999)

Waar skryf sy? “In die studeerkamer. Alle gedigte vind egter nie noodwendig hul voltooiing daar nie. Dit bly draai maar in ’n mens se kop waar jy ook al gaan. Soms kom die oplossings waarna jy soek, by die onmoontlikste plekke by jou op – soos wanneer jy inkopies doen.” (Insig, Februarie 1999)

Hoe gaan sy te werk om iets te skryf? “My idees word vroeg gebore. Karakters speel in my gemoed. Dit duur ’n lang tyd voordat dit op papier kom.” (Die Burger, 20 September 2003)

“As ’n gedig voltooi is en hy het geword wat hy moes wees, gee dit ’n geluk wat niks anders dermate kan gee nie. Die effek is egter kortstondig, want die geluk kwyn as ’n mens afstand op die skryfsel kry, en dan begin die analise.” (Insig, November 1988)

Is sy ’n taalvegter? “Ja, ek is gekant teen Engafrikaans. Ek voel die gebruik daarvan voer ons drie eeue terug na die tyd toe Afrikaans as kombuistaal bestempel is.” (Die Burger, 20 September 2003)

Gebore en getoë

Anlen Elisabeth Marais is in 1953 gebore as ’n nooi Jordaan. Sy word groot op Fort Beaufort in die Oos-Kaap, waar sy matrikuleer. Sy was hoofmeisie daar en voeg vinnig by: “Daar was net tien kinders in die klas, waarvan twee meisies was.” (Oosterlig, 26 November 1984)

Haar vader was betrokke by die veiligheidspolisie en haar moeder was ’n dosent in Engels en Latyn aan die Fort Hare Universiteitskollege.

Anlen beskryf haar grootworddorp aan Roline Norval (Oosterlig,  5 Oktober 1988) as ’n “stimulerende dorp met baie bakens in die landskap. Van kleins af is ek gekonfronteer met die groot swart gesig van die dorp. Die swart werkers het elke oggend met hul perde uit die berge op die dorp aangekom en elke aand met die aandklok verdwyn. Van politieke werklikhede het ek van my pa gehoor, wat in die veiligheidspolisie was. My ma, wat Latyn en Engels aan die kollege doseer het, het saans voor die kaggelvuur vir my as klein kind die legendes en mites van die Griekse en Romeinse gode vertel. My pa het ook gedurig stories vertel.

“Dit is hier waar woorde en wat jy daarmee kan doen, vir my ’n gevoel van opwinding begin gee het deur die kontras tussen die onheilspellende skadu’s wat die vlamme agter teen die muur gooi en die veilige en geborge gevoel om die kaggel, waar Ma woorde optower en Pa biltong kerf.

“Fort Beaufort was ’n mengelmoes van plattelandse mense met ’n kosmopolitiese aksent uit die geledere van die universiteit en die Duitse klooster wat as die kultuursentrum van die dorp beskryf kan word. Dit is by die klooster waar ek Duits-klasse en musiek geneem het.”

In standerd ses lees Anlen “Vroegherfs” van NP van Wyk Louw in ’n tydskrif en dit is toe dat sy haar eerste gedigte begin skryf: “Ek onthou nog die opwinding en dankbaarheid wat ek gevoel het dat so iets in Afrikaans geskryf is en dat dit hoegenaamd geskryf is,” vertel sy aan Norval.

Verdere studie en werk

Na matriek is Anlen na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy haar BA en BA Honneurs behaal. Sy was, soos vele ander digters wat in daardie jare op Stellenbosch was, lid van DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium. In haar honneursjaar was sy Opperman se assistent en dit is veral in daardie tyd dat haar digwerk rigting gekry het. Terwyl sy haar vir ’n MA-graad in Afrikaanse letterkunde voorberei het, het Opperman siek geword en het sy haar studie op die lange baan geskuif. Sy is toe as gas van die Nederlandse Zuid-Afrikaanse Vereniging na Nederland.

In 1977 behaal Anlen haar HOD aan die Universiteit van Port Elizabeth en vanaf 1978 tot 1983 is sy verbonde aan verskeie skole in die Kaap en op Uitenhage.

Sy tree in die huwelik met A Marais en hulle gaan vestig hulle op Despatch. Die egpaar het ’n seun, Ernst.

Die Departement van Nasionale Opvoeding skryf in 1979 ’n prosawedstryd uit, en hoewel daar geen wenner of naaswenner aangewys is nie, word die derde prys gesamentlik aan Anlen en Roy Niemann toegeken. Anlen ontvang dit vir haar manuskrip Op parool.

In 1984 debuteer Anlen as digter in die bundel Visier, wat deur Charles Fryer en Petra Müller saamgestel is. Ander digters wie se werk ook in die bundel opgeneem is, is Carol Clark, Wium van Zyl, Donald Riekert en Rosa Smit. TT Cloete skryf in Tydskrif vir Letterkunde (Mei 1985) dat Anlen die digter is wat individueel die beste indruk gemaak het. Daniel Hugo meen in Die Volksblad (15 Desember 1984) dat Anlen die sterkste digter in die bundel is: “Haar gedigte is met ’n beheerste, vormvaste hand geskryf,” sê hy. Vir André le Roux in Beeld is Anlen se gedigte met elke herlees beter en dat haar eie bundel moet verskyn.

Foto: Pixabay.com

Na die geboorte van hulle seun was Anlen vir vier jaar by die huis en gedurende hierdie tyd ontstaan haar eerste selfstandige bundel, Die wolf in die blare. Sy verduidelik aan Roline Norval dat die titelgedig sinspeel op die kinderverhaal van die wolf en die drie varkies, “waarin sy die vrese wat met kindersprokies gepaard gaan en die rol wat die ma se vrese daarin speel, bekyk. Dit is veral die toonaard van hierdie gedigte wat van dié van my vroeë gedigte verskil. Ek is met ’n man getroud wat die lewe tong-in-die-kies benader wat my ook beïnvloed het om minder ernstig te wees. Ek voel ook ’n skatpligtigheid teenoor die omgewing en het die geografiese gebied beklemtoon.”

Die bly in ’n huis en die redes wat ’n mens dwing om daar te bly soos verpligtinge is die belangrikste tema van Die wolf in die blare. Ook is die son wat sleg is vir die menslike liggaam as gevolg van ’n siekte, ’n ander oorwegende tema.

Nadat sy in Visier gedebuteer het, hou Anlen aan met skryf en dit is hierdie gedigte wat in haar eerste bundel opgeneem is. In Insig van November 1988 vertel sy as volg: “Maar dis eers sedert Desember verlede jaar (1987) dat ek ’n patroon in die verse begin waarneem het en toe besluit om meer by te voeg en aan te las vir ’n bundel."

Pieter van der Lugt (Die Burger, 8 Desember 1988) sê dat dit “verblydend is om ’n debuut te sien waarin die peil van die verse so konstant is. Hier is min vaal kolle en origens ’n handvol verse wat talle lesers sal bybly. Daar is ’n konsekwentheid in die segswyse wat ’n afgeronde indruk laat en groot belofte inhou.”

Vir Joan Hambidge (Beeld, 5 Desember 1988) is “die vermoë om temas te kan komponeer, verdienstelik. Daar is blyke van ’n kragtige eie stem en ’n vermoë om konkreet te werk. Die verse is egter nie altyd tegnies af nie. Sou die digteres egter tegnies ontwikkel, behoort haar eiesoortige visie tot ’n boeiende digterskap te ontwikkel.”

Anlen skryf haar in 1988 in vir ’n graad in kuns aan Unisa. “Ek wou graag met ’n ander kunsvorm eksperimenteer soos met beeldhouwerk. Dit is interessant dat ’n mens met dieselfde probleme soos dié van integrasie te kampe kry in elke kunsvorm. Ek het my eerste jaar met beeldhou as hoofvak met vlieënde vaandels geslaag, maar het besluit om in my tweede jaar slegs kunsgeskiedenis aan te pak, omdat ek die wondere van die rekenaar ontdek het,” vertel sy aan Roline Norval.

’n Toneelstuk van Anlen, Wittakker se laaste trippie, word in 1989 by die ATKV se Kampustoneelfees opgevoer deur die Universiteit van die Witwatersrand se Dramadepartement. Sy beskryf die stuk as post-protesteater. “Dit is teater van versoening. Daar is ondertone van protes teenwoordig, maar dit is nie die protes van spoeg nie,” verduidelik sy aan Roline Norval (Oosterlig, 23 Maart 1989). Die stuk is ’n huldeblyk aan Wittakker, ’n Engelse narkotiseur wat altyd saam met ’n groepie bruin vissers gaan visvang het. Daar is twee sterk rolle in die stuk en een is geskryf met die akteur Eric Nobbs in haar agterkop, en in die ander rol sou sy graag ’n akteur soos John Kani wou sien wie se gesigspel een van sy sterk punte is.

Anlen was een van die eerste persone wat die ATKV se werkskole bygewoon het. Sy het in 1985 ’n werkskool bygewoon wat deur Nico Luwes gelei is oor die skryf van dramas.

In 1990 ontvang Anlen ’n oproep van Japie Greeff, voorsitter van die Sinodale Kommissie van die NG Kerk in Oos-Kaapland, met die versoek om ’n passiespel te skryf. Sy was juis besig met navorsing vir ’n gedig oor die opstanding soos dit in Johannes 20 beskryf word. Hierdie gedig het Maria Magdalena se slotliriek in die passiespel Die passie van onse Heer geword. Anlen het die teks en lirieke geskryf en die passiespel is onder haar regie in 1991 in Happy Valley in Port Elizabeth opgevoer in samewerking met Kruik. Van die soliste was Randall Wicomb, Rudi Neitz, Theo Boekkooi, Retha Smit en Patricia Smith.

Saam met Patricia Smith is Anlen in 1992 verantwoordelik vir ’n kinderreeks, Moeder Aarde, wat oor omgewingsbewaring handel en wat oor Afrikaans Stereo se kinderprogram Siembamba uitgesaai is. Sy beskryf die oorsprong van hierdie reeks aan Roline Norval (Oosterlig, 2 Oktober 1992): “Ek het vir Patricia vertel van die liedjie wat ek geskryf het met ’n paar stories met ’n bewaringstema. Ek het egter weer daarvan vergeet totdat Patricia vir haar gevra het om daarna te kyk. Patricia het die stories aangevul met ’n paar van haar eie totdat daar genoeg was vir ’n hele reeks. Die stories, almal met ’n bewaringstema, speel hulle af in die Oos-Kaapse omgewing met die bedreigde diere van die streek as tema. Patricia het die stories ‘gered’ het, want ek was baie besig om aan talle projekte te werk, soos ’n etniese drama met musiek, asook ’n Kersspel wat opgevoer sou word om Despatch se 55ste jaar te vier.” In 1993 skryf Anlen ’n opvolgreeks van ’n verdere tien episodes van Moeder Aarde.

Ben de Koker van Bloemfontein neem die regie waar van haar Kersspel, Die seuns van Jonathan, wat in 1992 op die planke gebring is.

In 1993 ontvang Anlen ’n uitnodiging om haar kinderdrama Koer-koer vir opvoering te neem na die Third International Women Playwright’s Conference in Adelaide in Australië.

Anlen is ook ’n skilder van naam en sy het al ’n uitstalling van haar skilderye saam met ander kunstenaars in Uitenhage gehou.

Anlen se veelsydigheid ken geen perke nie en in 1995 word haar eerste musiekspel, Noah was his name, deur die Hoërskool Brandwag op Uitenhage opgevoer. Hierdie stuk is ’n unieke benadering tot die storie van Noag, wat die “natuurbewaarder” was toe die groot vloede die aarde verswelg het. Deur die stuk hoop Anlen om die kinders meer betrokke te kry by natuurbewaring.

Anlen lees in 1995 in Die Burger van BBC World Service se dramawedstryd en sy besluit om daaraan deel te neem. Vir haar drama Dear Miester Mandela word sy aangewys as die streekwenner vir Afrika en die Midde-Ooste en die moontlikheid het bestaan dat dit as radiodrama oor die BBC uitgesaai sou word. Sy beskou hierdie toekenning as een van die hoogtepunte van haar skryfloopbaan. Sy het die stuk aanvanklik in Afrikaans geskryf en dit toe in Engels vertaal. Anlen meen dat die stuk baie beter in Afrikaans klink, omdat dit in die streektaal van die Oudtshoorn-distrik geskryf is.

Die idee vir die stuk het ontstaan na aanleiding van ’n storie wat haar oupagrootjie, ’n Skot van geboorte wat by Oudtshoorn geboer het, vertel het, vertel Anlen aan Roline Norval (Die Burger, 28 September 1995). Haar oupagrootjie se plaas is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Engelse soldate beset en een van die werkers op die plaas het ’n Engelse soldaat se kind gehad. Anlen het geen idee wat van die kind geword het nie, maar sy het hierdie gegewe as agtergrond gebruik in haar verhaal waarin sy ’n beeld probeer gee van die gebeure van die twintigste eeu in Suid-Afrika.

In Anlen se verhaal erf die kind wat destyds gebore is, ná 90 jaar £10 000 van sy Engelse kant van die familie. Hy kan egter nie lees of skryf nie en die brief wat hy aan sy vrou dikteer, dra hy op aan “Miester Mandela” en dit vorm die drama.

In 1997 is die Afrikaanse weergawe van die stuk, Horiesô Madiba, by die hooffees van die KKNK deur Kruik Oos-Kaap opgevoer met David Goliath en Vinette Ebrahim in die hoofrolle en onder regie van Marléne Pieterse. Na die opvoering skryf Roline Norval dat hierdie stuk Afrikaanse teater, veral in die Oos-Kaap, weer moed gee. “Met skerp waarneming, aanvoeling en verbeelding het sy vir haar Martiens en Ragel ’n verwysingsveld geskep wat hulle eg en geloofwaardig maak. Sy gebruik byvoorbeeld die rol wat mites in die kultuuragtergrond speel om die meer gesofistikeerde teatergangers ’n subtiele aanduiding te gee van wat van hul kleinseun geword het. Dit is nie net twee karakters nie, maar die geskiedenis en ’n plek waaraan lewe gegee word.”

Een van die beoordelaars van die BBC se kompetisie, Tim Butchard, hoof van die Departement Drama en Dans van die British Council, het die stuk as “roerend en skerpsinnig en ’n besonderlike effektiewe stuk teater” beskryf. Die paneel van ses beoordelaars het die stuk se “roerende eenvoud en die patos waarmee die twee bejaarde mense se oorloggeteisterde lewens uitgebeeld word, aangeprys en die stuk opgesom met: ‘Goeie karakterisering en ’n goeie uitbeelding van die verhouding tussen die twee mense en ’n gevoel vir die taal wat hulle praat ... die skrywer het baie talent, vernuf en kundigheid’.”

Anlen se kulturele bydrae oor twintig jaar tot die Oos-Kaap word in 1998 deur die Departement van Kuns en Kultuur erken toe sy ’n toekenning van hulle ontvang.

In 1998 tree sy saam met ander skrywers by die Universiteit van Port Elizabeth se skryfskool op. Sy het die afdelings radiodramas en dramas behartig. In 1998 bied sy ook ’n radiodrama-werkswinkel op Graaff-Reinet aan vir die Departement van Kuns en Kultuur.

Na elf jaar word Anlen se tweede digbundel, muur van berge, in 1999 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is geïnspireer deur die gebeure toe haar moeder nie meer kon praat nie weens keelkanker. Daarna kon sy net deur briefies te skryf met haar dogter kommunikeer. Anlen en haar geneesheer-man het haar so lank as moontlik tuis verpleeg en daar was eenvoudig nie die tyd of energie om aan gedigte te dink nie, vertel sy aan Cas van Rensburg (Insig, Februarie 1999). Petra Müller en Danie Botha van Tafelberg Uitgewers was die groot impetus om met die materiaal om te gaan. “Jaar ná jaar het hul Kerskaarte aangekom met die boodskap: Ons wag.”

Ná twintig jaar het Anlen uiteindelik die moed gehad om deur die boks met papiere te gaan: “Met die skryf van muur van berge moes ek my nie alleen in tyd terugverplaas nie, maar ook na die gebeure se ruimte. Dit het soveel konsentrasie geverg dat ek soms vergeet het waar ek my eintlik bevind.”

Sy vertel aan Cas van Rensburg dat dít waaroor sy in muur van berge skryf, haar vir baie lank sonder woorde gehad het: “Selfs nou nog vind ek dit moeilik om daaroor te praat. Voorts het ek vir ’n lang ruk gemeen die onderwerp is dalk té persoonlik vir publikasie. Deur te wag het ek gehoop dat ek die nodige afstand daarop sou vind en sodoende reg sou kon laat geskied aan die omvang en diepgang daarvan.”

Oor die titel van die bundel verduidelik Anlen aan Van Rensburg dat haar ma die laaste ses maande nie meer kon praat nie; dus moes sy alles wat sy wou sê, neerskryf: “Muur van berge is haar laaste woorde. So het sy dit wat sy toe gesien het, onder woorde gebring. ’n Vertroostende nalatenskap.”

In Zuid-Afrika van November/Desember 1999 skryf Hans Ester: “Ik vind deze poëzie zeer indrukwekkend en ik ben blij dat er in Zuid-Afrika ook nog gedichten werd geschreven waarin de ironie en de onbetrokkenheid het moeten afleggen tegen de werkelijke levensproblemen.” AP Grové (Beeld, 24 Mei 1999) meen dat daar beslis beplanning en struktuur in die opset van die bundel sit, asook afwisseling van spanning. “Maar die bundel het ook sy skadukant. Baie van die gedigte, selfs van die bestes, word plek-plek te informatief, mededelend, prosa-agtig, ritmies spanningloos. [...] Dis ’n bundel wat sekerlik ’n bydrae lewer, maar daarby is dit ’n bundel wat vanweë verstegniese tekorte nie sy moontlikhede en beloftes ten volle kon verwesenlik nie.” Francois Smith (Die Burger, 2 Junie 1999) skryf dat Marais se poësie nie soseer deur die beeldgebruik of liriese toon bekoor nie. “Dit is egter ’n ryk bundel vir diegene wat bedag is op hoe die ‘fyn net van die woord’ reg deur die bundel ingespan word.”

Anlen se radiodrama The medic was onder die tien finaliste in die Sanlam/RSG se hoorspelkompetisie in 1999 en word op RSG uitgesaai onder regie van Terrance April. Verskeie van haar verse word in versamelbundels opgeneem, onder andere in Sy sien webbe roer, wat in 1999 deur Lina Spies saamgestel is. Twee kortverhale wat Anlen ingeskryf het vir De Kat se Vonkfiksie-wedstryd word saam met ander finaliste s’n gepubliseer in ’n bundel wat by Human & Rousseau uitgegee is.

In Maart 1999 ontvang Anlen ’n oorkonde van die ATKV vir haar bydrae tot Afrikaans.

Op grond van ’n nominasie deur die BBC word Anlen in 1999 genooi om deel te neem aan die Alexander Onassis International Competition Prize for the Composition of an Original Theatrical Play, wat geskeduleer was om in 2001 toegeken te word met ’n prysgeld van $150 000.

In 2003, met haar vyftigste verjaardag, het die Port Elizabethse Amateur-toneelvereniging (Peaat) haar vereer vir haar bydrae tot Afrikaans deur ’n toneelstuk, Die storieboom, oor haar werk op te voer. Agt van haar gedigte is in Groot verseboek 2000, wat deur André P Brink saamgestel is, opgeneem.

Anlen is lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en op 2002 se toekenningsplegtigheid vir die Hertzogprys het Elize Botha vir Anlen persoonlik bedank vir haar bydrae tot Afrikaans. “So ’n opmerking kan geen geld ter wêreld koop nie.” (Die Burger, 20 September 2003)

Publikasies:

Publikasie

Die wolf in die blare

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624026647 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

 

Publikasie

muur van berge: elegieë

Publikasiedatum

1999

ISBN

0624037533 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen


Artikel oor Anlen Marais beskikbaar op die internet

Artikels deur Anlen Marais beskikbaar op die internet

  • Bygewerk op 8 Januarie 2020

The post Anlen Marais (1953–) appeared first on LitNet.

Wilna Adriaanse (1958–)

$
0
0

Sêgoed van Wilna Adriaanse

“Lesers hou van karakters waarmee hulle kan identifiseer, hulle lees agter ’n sterk intrige aan en die liefdesaspek is maar net een deel van die storie. Interessant genoeg, vroue van alle ouderdomme, uit alle dele van die land en uit alle beroepe lees liefdesverhale. En deesdae raak al hoe meer mans dapper genoeg om te erken hulle lees dit ook.”

“Ek dink nooit karakters self uit nie: hulle kom verlei my en fluister in my oor dat hulle wil hê ek moet hul storie vertel.” (NB@Bookslive 10 November 2008)

“As ek in die antieke tye geleef het, sou ek heel waarskynlik ’n storieverteller op die markplein gewees het, want by die huis sou daar nie vir my veel nut gewees het nie.” (http://www.wilnaadriaanse.co.za)

“Vir my is skryf ’n jaloerse proses en al beplan ek hoe deeglik, beland ek met elke boek in ’n stadium dat ek my dikwels aan vriende, familie en die wêreld onttrek en die grootste gedeelte van my dae in ’n gedagtewêreld saam met fiktiewe karakters deurbring. En selfs die tye dat ek nie agter die rekenaar sit nie, is die storielyn besig om soos ’n rolprent in my gedagtes af te speel en bedink ek moontlikhede.” (LitNet)

Hoe maak ’n mens tyd om te skryf? “Jou geliefdes moet begrip hê, jy moet vrede maak met min slaap, skryf moet werklik ’n passie wees, jy moet leer om die kaf en die koring te skei, tevrede wees dat die woorde ‘verveling’ en ‘ledigheid’ nie in jou woordeboek voorkom nie – en die aanleer van die woord ‘nee’ help baie.” (LitNet)

“As mense hoor ek skryf liefdesverhale, wil hulle altyd weet of ek hygromans skryf. Daar is ’n duidelike verskil tussen die twee. In ’n liefdesverhaal gaan dit eerder oor die karakters se emosies as oor grafiese beskrywings. Ek het groot respek vir skrywers wat jare lank met groot omsigtigheid liefdesverhale skryf. Dis soms nogal ’n ondankbare werk, want die skrywers dien hul lesers eerder as hulself.” (Die Burger, 6 Januarie 2005)

“My stories gaan oor mense en menswees en menswees. En veral oor die eiesoortige dans wat ontstaan die dag as twee mense mekaar ontmoet of her-ontmoet. Binne die ontdekking van ’n ander persoon lê daar soveel interessante moontlikhede opgesluit en bly dit vir my ’n interessante tema.” (http://www.wilnaadriaanse.co.za/va)

“Romantiese fiksie word dikwels deur onkundige lesers en kritici voor die voet afgemaak as hygromans, maar ek is dankbaar dat daar wel lesers en resensente is wat nie in die geykte slaggat trap nie. Op ’n ligter noot, ek sal nogal graag wil hoor indien een van my boeke ’n leser laat hyg het ... en waar in die boek dit plaasgevind het.” (http://www.wilnaadriaanse.co.za)

“Afrika fassineer my omdat dit so onvoorspelbaar is [op] soveel maniere, veral as ’n mens dit vergelyk met ’n Europese leefstyl wat jou gees kan afstomp.” (NB@Bookslive 10 November 2008)

Waar is/was sy op haar gelukkigste? “Die dag toe my kinders, Cobus, Jaco en Johann, oud genoeg was om saam met my te gaan fliek. Dis soveel opwindender as ’n rondomtalie in die speelpark.” (Beeld, 1 Maart 2009)

Waar was sy op haar ongelukkigste? “’n Wêreld sonder oranje lipstiffie, boeke, donker sjokolade en my ma se vleisslaai.” (Beeld, 1 Maart 2009)

As wat sou sy in ’n tweede lewe wou terugkom? “Ek vermoed hierdie is reeds my tweede ronde ... Ek was in my eerste lewe ’n hofnar en vir my straf het ek teruggekom met ’n verdraaide humorsin.” (Beeld, 1 Maart 2009)

Oor die skuif in genre (met Dubbelspel) aan Nadine Petrick: "Aan die een kant ’n vrees dat ek dalk op ’n dag gaan begin karakters en storielyne kloon, en om dit te voorkom, moet ek ’n groot verskeidenheid storielyne ondersoek. Deels dalk omdat ek gou verveeld raak en altyd op soek na iets nuuts is. ’n Derde rede is dalk omdat ek nie graag net oor 'boy meets girl and they lived happily ever after' skryf nie. Verhoudings en die lewe is tog veel komplekser as dit. En die laaste rede is waarskynlik omdat ek glo daar is ’n groot mark vir boeke wat die lesers laat ontspan, maar terselfdertyd hulle gedagtes en verbeelding prikkel. Ek hoop ek slaag daarin." (http://www.wilnaadriaanse.co.za)

Is dit maklik vir haar om elke keer ’n nuwe boek aan te pak (Phyllis Green)? "Elke boek is moeilik. Selfs al kom meld die karakters aan. Dit is nie asof hulle met ’n klaar storie aankom nie. Ek moet hard werk om te sien waarheen hulle my wil neem. Die ergste is as hulle dae lank, selfs soms ’n week of twee stil raak. Dit is dan wanneer ’n mens soms ure lank na ’n wit muur kan staar, en niemand dit verstaan as jy sê jy is besig om te werk nie!" (Sarie, 13 Junie 2014)

"Mense dink ek het ’n keuse van watter tipe boek ek gaan skryf, maar eintlik het ek nie veel van ’n keuse nie. Die karakters kom net en dan loop ek maar agter hulle aan." (Bookslive)

Haar lewensfilosofie: "Die lewe bring nie altyd presente met groot, veelkleurige linte nie. Die magic lê in die klein oomblikke." (Vrouekeur)

Die lekkerste aspek van haar lewe as skrywer: "Die interaksie met lesers. Mense kommunikeer via Facebook of boodskappe met my. Ek antwoord elke brief wat ek kry. Mense doen moeite om met my te gesels en daarom gesels ek terug. En as die karakters met jou begin gesels!" (Vrouekeur)

"As jy wil skryf, moenie net daaroor droom nie. Doen dit, anders sal jy altyd wonder." (The Writer's College Blog)

"Ek dink nie dit is moontlik om te skryf as jy nie self ’n ywerige leser is nie. Lees so wyd as moontlik, maar veral binne die genre wat jy wil skryf. Probeer om jou teikenmark te verstaan." (The Writer's College Blog)

Rachelle Greeff vra hoekom ons, wat so geweldvoos is, nog steeds misdaadfiksie wil lees: "Dit het ek my ook afgevra terwyl ek die boek (Dubbelspel) geskryf het. En steeds het ek nie ’n antwoord nie, behalwe om te sê dalk is ons maar steeds op soek na helde. En adrenalien. Ek was ongeveer 14 toe ek een vakansie die skrywer Leon Uris 'ontdek' het. Ek was ge-hook. Die politieke intrige was so opwindend. Jy kan my steeds in ’n wip vang met ’n goeie spanningsverhaal. 

"Jy lees seker agter die naelbyt-element aan, maar ek vermoed dit gaan ook oor die versugting dat die goeie ouens asseblief moet wen. Miskien gee dit ons moed vir ons eie omstandighede. Nog iets: Ons skryf soms stories om te verstaan. ’n Mens besef dit nie, totdat jy kniediep in ’n storie is. En ek dink ons lees ook om dieselfde rede. Ja, ons wil vermaak word, maar dis ’n bonus as ’n storie vir ons ’n stukkie van die lewe duideliker maak." (Rapport, 11 Junie 2014) 

Rachelle Greeff wou by Wilna weet of dit haar romanses is wat haar geleer het om "in-die-kol-sexy" te skryf: "Ek is bly as jy so reken. Om in Afrikaans oor seks en die liefde te skryf, bied nogal uitdagings. My geslag het van jongs af oor die liefde in Engels gelees. Ons is dalk nog lomp en verleë om dit in Afrikaans te beskryf. Dit is waarom ek dalk eerder die sensuele probeer. Met die klem op die karakters se emosies en nie soseer op wat hulle doen nie." (Rapport, 8 Junie 2014) 

Dink sy die opvolg op Dubbelspel sal net so suksesvol wees? "Jy neem met elke boek jou skrywerslewe in jou eie hande en hoop jy en die storie kom heelhuids anderkant uit. Ek het ook geleer dat ek baie dapper lesers het wat deur die jare lojaal gebly en my toegelaat het om ’n paar jakkalsdraaie met hulle te gooi. Ek is dankbaar om te sien hulle is steeds aan die lees." (Rapport, 8 Junie 2014) 

Oor die krapperige verhouding tussen ma en dogter in Dubbelspel: "Al het ek self nie dogters nie, is ek darem ’n dogter vir my ma. Ek dink die verhouding tussen ’n ma en dogter is op beste van tye meer kompleks as dié tussen pa's en seuns. ’n Ma en dogter bly lewenslank vasgestrengel in die naelstring. En ek vermoed dit het iets te doen met die feit dat jou dogter ook geboorte gaan skenk." (Volksblad, 7 Mei 2014)

En die verhouding tussen ma en seuns? "Om seuns groot te maak, is tegelyk opwindend, interessant en vreesaanjaend. Ek moes dapperder word en hulle het my ook geleer wat ongekompliseerde verhoudings is – en hoe om te kommunikeer deur bloot ’n TV-speletjie teen mekaar te speel." (Volksblad, 7 Mei 2014)

Gebore en getoë

Wilna Adriaanse is op 19 Maart 1958 "met die rooi sand van die Kalahari tussen haar tone gebore as die middelste kind tussen twee broers. Dis ‘n wêreld van stories, mites en legendes. En elke persoon in daardie wêreld is eintlik ‘n storieverteller uit eie reg. Sy noem dit die wêreld waar vrae met stories beantwoord word," skryf Mariana Malan.

Sy word egter tussen die berge en wingerde van die Breëriviervallei in Worcester groot en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Worcester.

Vandat Wilna kon praat, het sy stories vertel, en op skool het sy graag opstelle en briewe geskryf. Sy was ook van kleins af lief vir lees en sedert sy in graad 1 leer lees het, het sy nog nooit weer opgehou nie. Boeke was van kleins af haar beste geselskap.

Verdere studie en werk

Na matriek in 1977 is Wilna na die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n BA-graad met sosiologie en ontwikkelingsbestuur gedoen het, asook ’n honneursgraad in ontwikkelingsadministrasie.

In 1981 trou sy met Deon Adriaanse, ’n klasmaat, en hulle verhuis vir drie en ’n half jaar na Giyani in die Laeveld. Hulle albei werk daar by die Kantoor van die Kommissaris-Generaal. In 1985 trek Wilna en Deon terug Kaap toe en gedurende die volgende vyf jaar word hulle drie seuns, Cobus, Jaco en Johann gebore. Met die oudste kind se geboorte word Wilna voltyds ma, maar skryf tussendeur by die Universiteit van Suid-Afrika in vir sielkunde, en vir die volgende paar jaar word die eksamens en werkstukke so tussen die geboortes deur geskryf. Sedert 1987 woon die gesin in Durbanville naby Kaapstad, en sedert 2012 werk Deon in Botswana en pendel Wilna tussen Somerset-Wes en Botswana.

Die skryfgogga het vir Wilna om middernag op 31 Desember 1999 in die Switserse Alpe gebyt. “Ek is mal oor Nuwejaarsvoornemens en dit was my gróót besluit met die aanbreek van die nuwe millennium,” vertel sy aan Kirby van der Merwe (Beeld, 1 Maart 2009). Terug in die Kaap hoor Wilna van Martie Preller se internetskryfkursus en sy besluit om daaraan deel te neem sodat sy kan sien of dit is wat sy regtig wil doen. “Dit was ’n baie interessante leerskool en by tye het ek my bedenkinge gehad, maar die saadjie was gesaai en teen die einde van die kursus het ek geweet ek gaan op daardie vreemde pad stap, al is dit by tye nie ’n maklike pad nie.”

Wilna was self ook al by skryfkursusse betrokke. In 2010 was sy saam met Chanette Paul ‘n beoordelaar van LitNet se aanlynskryfkursus, SkryfNet XXIV. Sy was ook kursusleier van die Afrikaanse deel van die “Skryf ’n Roman”-kursus van die South African Writers’ College.

In 1999 is hulle oudste seun, Cobus, na Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch en skielik was die huis leeg en wend Wilna haar na haar rekenaar en begin skryf aan haar eerste boek. Sy skryf aanvanklik onder ’n skuilnaam, Wilmine Burger. Oor hierdie besluit skryf Wilna op haar webwerf: “Dit was waarskynlik ’n mate van selfbeskerming indien daar nie verdere boeke gaan volg nie. As niemand weet ek het die boek geskryf nie, kan niemand my vra of ek weer een gaan skryf nie. Ek dink die vrees dat daar nooit weer ’n storie by jou gaan kom aanklop nie, is iets waarmee baie skrywers waarskynlik moet saamleef. Na twaalf boeke is die vrees steeds daar, maar ek het darem al ’n mate van vertroue in die proses gekry. Toe Tafelberg in 2001 ’n manuskrip koop, het ek besluit om die naam Wilmine Burger aan die Lapa-boeke te koppel en by Tafelberg voort te gaan onder my eie naam.”

Sy stuur in 1999 ’n manuskrip na LAPA en in 2000 word Die wingerd sal weer bot uitgegee. ’n Verdere drie boeke onder haar skuilnaam verskyn by LAPA, naamlik ’n Heildronk op die liefde (2002), Liefde is ’n kleur (2004) en Brug van woorde (2004). ’n Heildronk op die liefde wen in 2002 LAPA se Liefdesverhaaltoekenning van die jaar.

Tafelberg publiseer in 2001 ’n Ongewone belegging, die eerste boek wat onder haar eie naam verskyn. Dit word as deel van die Jasmyn-afdeling uitgegee. Verdere titels wat onder die Jasmyn-naam volg, is Alleenvlug (2002), Die reuk van verlange (2003) en Serenade vir ’n nagtegaal (2004). In 2005 word Hande wat heelmaak onder die Hartklop-naam uitgegee.

In 2004 waag Wilna haar hand aan ’n veel lywiger boek, en Rebecca word in die romantiese-fiksie-genre deur Tafelberg uitgegee. Dit beleef in 2005 twee herdrukke en ’n tweede uitgawe verskyn in 2009. Die uitgewers se inligtingstuk beskryf die storie van Rebecca as volg: "Rebecca Fagan is op 25 in besit van ’n regsgraad, ’n rugsak, ’n groot mond en baie guts. Sy het twee jaar druiwe gepluk in Frankryk, in Italië op ’n olyfplaas gewerk en was in Duitsland as ’n kelner in diens. Maar sy is terug in Suid-Afrika en soek ’n 'regte werk' – verkieslik een wat opwindend is en wat ’n groot salaris betaal. Toe sy hoor dat Julian Hoffman, derde-geslag-erfgenaam van ’n multimiljardrand-maatskappy, op soek is na ’n persoonlike assistent, besluit sy om aansoek te doen, al is die pos nooit in ’n koerant geadverteer nie. Haar leuse is nie verniet 'Wie nie waag nie, wen nie' nie."

Die roman is in Huisgenoot beskryf as ’n “liplek-lekker resep vir ’n liefdesverhaal, maar met ’n paar kinkels” en in Leserskring as “die lekkerste soort storie wat ’n mens kan kry. Dis Pretty woman in Afrikaans. Net nog baie beter.” In Volksblad (28 Februarie 2005) skryf Anita de Kock dat die verhaal ’n sterk storielyn het met karakters wat oortuigend beskryf is. Al wat De Kock gepla het, is dat die dialoog soms baie lomp is, maar sy het nietemin gemeen dat die verhaal ten spyte daarvan ’n treffer behoort te wees.

Jeanne Hugo (Die Burger, 5 Maart 2005) beskryf Rebecca as ’n ou resep met ’n nuwe baadjie. “Die taal is jonk en modern, so ook die karakters. Die storie het hierdie leser gevange gehou – ek het vroegaand begin lees en nie opgehou totdat ek klaar was nie. Die verhaal styg uit bo die deursnee-liefdesverhaal danksy die kompleksiteit van die karakters. Rebecca het sommer baie issues, in die jong sprekers se taal. In haar rugsak is ’n paar donker geraamtes, by gebrek aan ’n kas, en wanneer sy uiteindelik tot stilstand kom, kos dit ’n rukkie om te besef hoekom dit so lank geduur het. Hier handhaaf die skrywer ’n goeie balans – nét wanneer Rebecca se koppige aandrang op onafhanklikheid en andersheid die leser begin irriteer, word die rede daarvoor geopenbaar.

“Julian word nie as die perfekte man voorgehou nie – hy is kort van draad en effens te ingenome met homself. Tog openbaar hy elke nou en dan verborge, deernisvolle karaktereienskappe wat hom en die verhaal diepte gee. Iets wat volgens my broodnodig is in die domein van die liefdesverhaal – die deursnee manlike karakter het gewoonlik mos die intelligensie van ’n koffietafel. Behalwe dat die liefde ondersoek word, word gekyk na die aard van afhanklikheid, en die gee-en-neem-proses wat laasgenoemde impliseer.

“Laat ons eerlik wees: Ons almal weet die twee duifies sal mekaar mettertyd vind, want dít is die doel van ’n liefdesverhaal. Dit is die reis daarheen, die droom daarvan, waarvoor ons val. Vál en val maar weer, sê ek, as nog sulke verhale op my pad kan kom.”

Volgens Helene de Kock (Beeld, 16 Mei 2005) weet Wilna hoe om die dialoog op so ’n manier aan te wend dat dit bydra tot die tempo van die verhaal. “Dis lewendige, natuurlike dialoog wat die leser teen wil en dank by die verhaal betrek. Dit dra by tot goeie karakterisering en ook die newekarakters maak aanspraak op die leser. Adriaanse ontgin die ruimte in die verhaal werklik goed wat betref Kaapstad en die wildtuin. Maar plekke soos Londen en New York waar die karakters besoek aflê, kom nie tot hul reg nie. Rebecca is egter ’n werklik boeiende lekkerlees roman en mens hoop daar kom meer sulke dik stories om lang ure mee te vul.”

Met ander woorde verskyn in 2005. In hierdie boek vertel Wilna Kristina se verhaal. Nadat sy gaan draf het en nie haar gewone tyd terug is by die huis nie, bel haar twee huismaats die polisie. Hulle kry haar onder ’n bos teen die berg en hoewel sy by haar bewussyn is, kan sy niks onthou wat gebeur het nie. Sy gaan spreek Ben Krige, ’n psigiater op Stellenbosch. Kristina interesseer die psigiater baie en sy is vir hom soos ’n labirint: "vreemd en onbekend. Maar baie aantreklik. Al wat hulle het, is woorde. Maar geleidelik breek die woorde grense af en uiteindelik bring die pad hulle by ’n bestemming uit – maar ’n bestemming lyk soms anders as waarop ’n mens gereken het," volgens die uitgewers se inligtingstuk.

Op kalahari.net skryf ’n resensent dat sy/hy nie kan wag om al Wilna se boeke te koop nadat sy/hy Met ander woorde gelees het nie. “Ek kon die boek nie neersit nie. Die taalgebruik was soos die Afrikaans wat ek in my huis praat, die mense soos die mense wat ek elke dag mee te doen kry, die storie geloofwaardig en interessant. Die storie probeer nie een of ander politieke boodskap oordra nie, dit probeer nie ’n prof by ’n Afrikaanse departement beïndruk nie, dit probeer my kry om uit te vind wat het met arme Kristina gebeur.”

Met die verskyning van Die boek van Ester in 2008 vestig Wilna haar as een van die voorste beoefenaars van die genre van romantiese fiksie in Afrikaans. Met Ester beweeg sy nog verder weg van die formuleagtige liefdesverhale, volgens Ronel Nel (Beeld, 25 November 2008). “Meer in die rigting van boeke wat deesdae as chick-lit (enigeen vir ’n beter beskrywing in Afrikaans?) bestempel word: ontspanningsverhale wat nie net die hormone laat pomp en sentimentele romantiese ideale verstewig nie, maar wat die leser erken as ’n moderne, ontwikkelde vrou wat weet wat om haar aangaan en beslis ’n goeie dosis realiteit kan verwerk. Die karakters is meer kompleks, die verhaallyn meer verwikkeld en daar is beslis geen voorspelbaarheid in die verloop nie.”

In Die boek van Ester is Ester ’n fotojoernalis, maar sy is geen groentjie nie. “Haar pa is Joods, hy was redakteur van ’n groot koerant, haar ma Afrikaans. Haar ouers word een aand in hul oprit doodgeskiet – geensins ’n lukrake misdaadgeval nie, maar dit noop haar steeds om Suid-Afrika te verlaat en na Londen te trek. Daar hervestig sy haarself totaal: sy verander haar klere, haar sosiale kring en word ’n mode-fotograaf. Afrika is in sy maai en sy stel nie belang nie, dankie!

“Twee jaar later is sy egter terug in die land vir ’n shoot in die Laeveld. Daar ontmoet sy Samuel McGreggor, veearts en omgewingskenner. ’n Belese, welsprekende man, uitgesproke en deel van die kontinent wat sy so inderhaas verlaat het. (...) Die boek is heerlik, hoewel dit soms voel of die dialoog ‘toesprake’ is, met geweldige bykomende nagevorste inligting. Dit is ook nié ’n Ingrid Winterbach of ’n Marlene van Niekerk nie – en probeer dit ook geensins wees nie. Dit is ’n lekkerlees-boek van waarde. Goeie chick-lit soos ons dit in Afrikaans nodig het. Ideaal vir ’n Saterdagmiddag op die rusbank, voete in die lug en ’n glas wyn in die linkerhand.”

Vir Magda Venter, Volksblad (10 Maart 2009) se resensent, betree Wilna met Ester die wêreld van die meer moderne en realistiese leser wat nie meer net wil lees van die heldinne van die "resepmatige liefdesverhale" nie, maar wat verhale wil lees wat opgebou is rondom aktuele sake. En hoewel Venter klein puntjies van kritiek gevind het, meen sy dat Ester die moeite werd is om te lees.

Herman Wiid skryf op LitNet dat Die boek van Ester die klassieke ondertone van ’n tipiese liefdesroman bevat. “Daar is die uitbeelding van die held wat sy damsel in distress moet red van die gruwelikhede van die wêreld. Hul intense, emosiebelaaide liefde-haat-verhouding sorg plek-plek vir passievolle oomblikke, soos op bl 433, maar dreig ook om uitgerek en vervelig te raak. Net so is daar ook baie elemente wat getuig van ’n meer ernstige aanslag in Adriaanse se werk en wat verdien om genoem te word. Die eerste hiervan is ’n deurlopende vrouetema, wat veral na vore kom in die tradisionele dans wat die vroue uitvoer (263). Ester voel ’n magiese aangetrokkenheid tot hierdie ritueel en vir die eerste keer sedert haar ouers se dood, voel sy dat sy weer êrens behoort.

“Die verhaal speel ook af teen die breër agtergrond van die bewarings- en ekologiese vraagstuk en dit sorg vir ’n interessante en relevante aanslag tot die storielyn deur die klem wat dit op aktuele sake, soos natuurbewaring en misdaad plaas. Nog ’n belangrike gegewe in die boek is die simboliese waarde wat daar deurgaans aan voëls geheg word. Hierdie tema maak die deur oop vir verdere interessante interpretasies van die verhaal deur die lesers.

Die boek van Ester sou nie afgerond gewees het sonder sy Bybelse intertekste nie. Verrassend genoeg is daar geen sprake van die Bybelse Ester-figuur in enige van hulle nie, maar tog slaag hulle in hul doel. Ook die paar filosofiese invoegings, veral dié deur die karakters Samuel en Robert en Ira, gee inhoudelike struktuur aan die verhaal.

“Al hierdie elemente val mooi in plek in die konteks van die verhaal en dit lyk of Adriaanse met dié verhaal weer haar slag gewys het met die pen. Dit bly egter ’n liefdesroman en ongeag die (bogenoemde) ernstiger aspekte rondom die boek moet lesers van ernstige leesstof en fiksie nie veel meer verwag nie. Dit gesê, voel ek is Die boek van Ester sy plek werd op vanjaar se The List van Exclusive Books, juis omdat dit, soos Adriaanse se ander werke, 512 bladsye van pure vakansieleesgenot bied vir die hopeless romantics onder ons.”

Die boek van Ester is in 2009 aangewys as die wenner van die ATKV-prys vir Liefdesromans.

Op haar webwerf vertel Wilna dat sy besonder baie navorsing moes doen voordat sy Die boek van Ester kon skryf. Hoewel hulle wel ’n tyd lank in die Laeveld gebly het, moes sy weer teruggaan om die gevoel van die plek terug te kry. Sy was by ’n rehabilitasiesentrum vir olifante en tydens die tydjie daar het daar jong olifante aangekom. Sy het ook op ’n olifant gery en ’n helikopterrit oor die Laeveld beleef. “Gedurende ’n besoek aan ’n wildernisgebied het ek baie ure met die gidse deurgebring en baie by hulle geleer. Aan die einde van die boek is daar ’n lang lys persone wat bedank word en dit is omdat hulle almal werklik meegehelp het dat ek die storie kan skryf.”

Wilna het haar in 2009 ingeskryf vir haar MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden.

In 2010 publiseer Tafelberg Wilna se volgende roman, Vier seisoene kind. Die hoofkarakter in hierdie roman is Cato, wat ook in Met ander woorde voorgekom het. Die flapteks vertel die storie: "Die woord weduwee is ’n verdrietige woord, ’n toestand waarmee Cato haar met moeite vereenselwig. Maar hier waar sy in die vliegtuig sit, is dit ongelukkig haar werklikheid. Haar man is dood, ’n skamele drie jaar ná hul troue. Sy is op pad terug Stellenbosch toe, waar Kristina en Ben nog is. En Marcus en Helen net om die draai in Kaapstad woon. Haar ondersteuningsnetwerk. Of dit so ’n goeie plan is om terug te gaan na die plek waar sy vir Neil ontmoet het, weet sy nie, maar in dié stadium wil sy nêrens anders wees nie. Veral nie alleen in Londen nie. Êrens tussen die tyding van die motorongeluk, die blyke van waardering, die roudiens en die werklikheid van ’n leë plek langs haar in die bed, het sy die Cato wat sy geken het, verloor. En in haar plek ’n bang vreemdeling gevind."

Wilna het vertel hoe Cato een nag met ’n bottel sjampanje voor haar bed verskyn het en gesê het dat Wilna háár storie moet vertel, en dit was die ontstaan van Vier seisoene kind.

Op LitNet skryf Elbie Adendorff as volg oor Vier seisoene kind: "Die tema van die boek is nie net die sprokieselement van die liefde nie, al spot Cato self met die tema: 'Dit is al daardie verdomde sprokies wat ’n mens hoor as jy klein is' en 'And we all lived happily ever after, saam met Kersvader, die Paashaas en die tandmuis.' Die boek gaan oor die vraag: Wat as mens se lewe anders uitdraai as wat dit veronderstel is om uit te draai? Met ander woorde as jou 'to do'-lysie nie meer lyk soos dit moet lyk nie, soos Adriaanse dit self in ’n onderhoud verwoord het. Vier seisoene kind gaan oor die wendinge wat in ’n mens se lewe voorkom en hoe jy op ander paaie gestuur word as waarvoor jy beplan het.

"Die boek verwoord natuurlik ook die tema van verlies en die hantering van verlies, soos deur Cato verwoord op p 318: 'Dit is so maklik vir julle almal om kommentaar te lewer. Cato is te maer, Cato huil te veel, Cato huil te min, Cato moet eet, Cato moet slaap, Cato moet treur, Cato moet minder treur. Gaan aan. Rou eers. Was een van julle al hier?' Saam met verlies, is die implikasie van ’n nuwe begin: Cato begin nuut op Stellenbosch, sy koop ’n nuwe besigheid, sy raak swanger, daar is die totsiens sê van die ou jaar en die groet van die nuwe jaar, en daar is die nuwe begin saam met Jacob.

"Hierdie temas is almal temas waarmee elke leser kan identifiseer: Hoe hanteer elkeen van ons verlies, hoe hanteer ons die wendinge wat op ons pad kom en hoe hanteer ons nuwe beginne. Dit is wat die boek bo die tipiese liefdesverhaal laat uitstyg – die ingewikkelde storielyn, die kompleksiteite van die karakters, die bevraagtekening van die liefde.

"Daar is verder ook die ander kleiner temas, soos vriendskappe en die waarde daarvan, die verhoudinge met ouers en skoonouers, die aanpassing in ’n nuwe dorp, enkelouer-tiener-verhouding. (...)

"Die verhaal van Cato is chick lit en dit is ’n lekker boek om oor ’n naweek te lees. Dit lees nie moeilik nie, en dit wil en moet dalk juis nie, want dit is populêre fiksie. Tog laat dit die leser nadink oor universele kwessies. Ek sal lesers aanmoedig om die boek te lees, veral dié wat die drie karakters Cato, Helen en Kristina reeds uit die vorige boek leer ken het. Ook die leser wat iets meer uit romantiese fiksie wil kry as die gewone 'Mills en Boon'-stories."

In Rapport van 3 Desember 2012 skryf Ilze Salzwedel: "In dié boek is van ’n gehyg geen sprake nie. Geleef en oorleef en geworstel met kwessies eie aan ons moderne lewe, ja, maar nie ’n gehyg en gewag op ’n ridder nie. Alles, van haar man se dood tot ’n onbeplande swangerskap, ’n eie onderneming, ’n nuwe land en nuwe en ou vriende, maak van Cato ’n vlees-en-bloed karakter wat struikelblokke uit die weg ruim en haar eie lewe bepaal. En dié leser leef mee, volg Cato se spoor tot daar waar sy haar eie mens is.

"Adriaanse mag maar skryf. As jy dit nog nie gelees het nie, gaan kry dadelik jou eksemplaar van Vier seisoene kind. Dis elke sent werd, en vir dié leser was die leesgenot veels te gou verby."

Ook in Rapport van 3 Desember 2010 is Jaybee Roux die volgende mening oor Vier seisoene kind toegedaan: "Die hantering van die deurlopende tema – die 'vier seisoene van rou' wat iemand ná die dood van ’n geliefde moet deurleef – bied beswaarlik opwindende leesstof. Dit sou goed kon werk as ’n leitmotief om alles wat in die boek gebeur, saam te bind. Maar die probleem is juis: daar gebéúr nie veel in dié roman nie. Die dilemma waarmee die heldin uitgedaag word wanneer sy besef haar man het haar méér as herinneringe ­nagelaat, word onderbenut. Dit kon ’n uitstekende katalisator gewees het om woema aan die verhaal te gee, maar dié aspek van Vier seisoene kind word met amperse gelatenheid gehanteer.

"Die uitdagings wat ’n teater­restaurant bied, bring ook nie juis opwinding nie, in elk geval nie wanneer dit deur Wilna Adriaanse beskryf word nie. Die liefdeselement is maar flou. Daar is min konflik tussen die heldin en die man met wie sy bestem is om haar toekoms te deel; daar is ook nie regtig sprake van struikelblokke wat oorkom moet word voordat hulle mekaar uiteindelik 'vind' nie.

"Die yl intrige word deur te veel en te lang gesprekke aanmekaargeflans (bladsy 7 tot 480). Wanneer daar in Vier seisoene kind gevloek word, kom dit meesal 'uit plek' voor en voel dit vir die leser asof hy/sy – met apologie aan Langenhoven – kou aan ’n mond vol koringkorrels waarin klippies versteek is.

"Hoekom is die boek dan so gewild? Die heldin is 'doodgewoon'; juis daarom kan soveel lesers hulle met haar vereenselwig. Die skrywer wéét hoe moderne vroue werkkrisisse, huweliksprobleme, vriendskappe ensovoorts ervaar. Baie genrelesers hóú van ’n ­dralende pas en weemoedige ­ondertoon: ’n roman is nie ’n aksiefliek nie. Die lesers voel Cato se verlatenheid en eensaamheid soms tot in die siel aan. Die grootste faktor bly egter die skrywer se vermoë om ’n heldin oortuigend en met warmte en deernis te skets. Dis al. En dis al wat tel."

Dit is vir Wilna baie belangrik om sterk heldinne te skep. “In die verlede wou die heldin gered word. Vandag doen sý die reddingswerk,” vertel sy aan Mariana Malan in Die Burger van 12 Januarie 2005). “Tog het elkeen die behoefte om eendag iemand te ontmoet wat haar volledig aanvul.”

Vir Wlna is een van die geheime van die liefdesverhaal dat die leser in die vel van die heldin kan klim. "Die verhaal word dus vanuit haar perspektief geskryf. Lesers sien nie werklik die ander karakters se kant van die saak nie en hulle het ook nie ’n vertellerstem nodig nie. Daar is gewoonlik nie ’n geheim in die slot opgesluit nie. Almal weet die held en heldin gaan op die ou end bymekaar uitkom. Die spanning lê in hóé dit gebeur.”

Wilna het gou geleer dat daar baie in liefdesverhale is waarmee mense kan identifiseer. “Mense meen dikwels hulle moet deur groot waarhede aangespreek word. Ek het al agtergekom dat dit die klein dingetjies is waaruit mense leer.

"Ek gaan soek nie na stories nie. Stories kry my en my familielede kom uit die Noordweste en is almal storiemense. My boeke wat ek skryf, is vir my soos familielede."

Wilna is ’n romantikus in murg en been en dit is hoekom haar stories so maklik na haar toe kom. “Nie noodwendig die soort wat kersligetes en stadige tango’s veronderstel nie, hoor,” vertel sy aan Sarenda Eloff-Vorster (Rooi Rose, Februarie 2003). “As ons na ou flieks kyk en ek die klassieke boeke lees, lyk dit of romanse in ons moderne samelewing uitgesterf het. Waar in hierdie supersoniese lewe kry ons nog tyd vir roosblaarbaddens en passievolle nagte saam? Vir handgeskrewe briewe op geblomde skryfpapier wat na katjiepiering ruik?

“Nee, dié is yl gesaai, maar in die plek daarvan het ’n nuwe soort romanse ontstaan. Of dit beter of slegter as die ou soort is? Wie sal weet? Ons kan net probeer om soos met baie ander dinge ook hierdie nuwe vaardigheid aan te leer, want ons behoefte aan liefde, koestering en aanvaarding bly dieselfde.”

Toe Wilna se man, Deon, in 2002 in Lagos, Nigerië gewerk het, moes hulle ander planne bewerkstellig om die romanse in hulle huwelik lewend te hou: “Vir my het romanse met kopspeletjies te doen. Soos ’n vinnige sin wat meer bedoel as wat die woorde sê, begrip vir mekaar en intellektuele stimulering. Dis soos ’n hartskonneksie.”

Mense nooi Wilna dikwels om van mooi en interessante plekke by hulle gebruik te maak om te skryf en sommige van hierdie plekke kan selfs as eksoties bestempel word, maar sy het geleer wanneer sy begin skryf, moet sy agter haar eie lessenaar sit met haar bekende kennisgewingbord vol notas en foto’s langs haar, vertel sy op haar webwerf: “My aantekeningboeke en notaboeke langs my en my yskas naby waar ek my na liggaam en siel kan gaan verkwik wanneer die karakters my laat kopkrap. (...) Alles is egter moontlik en toe my man vir ’n jaar in Nigerië gewerk het, was ek verplig om te skryf waar ek ook al gekom het. Op lughawens, in vliegtuie, in hotelkamers. So ’n bestaan bied weer sy eie uitdagings en plesiere.

"Dit is vir my belangrik om voor ’n boek so wyd as moontlik te gaan rondloop sodat die storie kans kry om te groei en ek die geleentheid het om dinge soos beelde, reuke, klanke, gesigte en dies meer in my geheue te versamel. Al daardie inligting en herinneringe word egter op ’n dag, soos kersvader se sak geskenke, terug na my studeerkamer gesleep om deel van die storie se doek te word.”

Oor twee boeke wat mekaar opvolg, het Wilna gevoel dat sy nooit ’n opvolg op een van haar boeke sou skryf nie, "omdat ek glo dit kan die eerste boek potensieel skade aandoen as dit nie ’n storie is wat op sy eie bene kan staan nie. Ek voel steeds so, maar met die volgende boek gaan ek tog terug na vorige karakters, nie soseer as ’n opvolg nie, maar om die verhaal van een van die ander karakters te vertel. So, wie weet, eendag loop ek dalk terug op van die ander boeke se paaie ook.”

In 2012 word Wilna se volgende roman, die produk van haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, onder die titel ’n Klein lewe uitgegee. Dit is met die eerste oogopslag duidelik dat hierdie roman op Wilna Adriaanse se eie lewe gebaseer is, maar dit is tog nie outobiografies soos ons outobiografiese romans ken nie.

In Tydskrif vir Letterkunde van 2013 is Lezandra Theart die resensent en sy skryf dat die boek ingewikkelde vrae vra en naspoor wat die hoofkarakter elke dag ervaar het gedurende haar grootwordjare in die 1950's in Suid-Afrika, "asook hoe die hoofkarakter as ’n ouer probeer om haar kinders te beskerm teen al die hartseer en seerkry wat sy self reeds ontdek het. Die titel van die boek suggereer dat die verhaal handel oor iemand wat nie ’n bekende figuur is nie, maar eerder ’n doodgewone vrou wat van kleintyd af met vrae worstel waarmee verskeie mense kan assosieer. ’n Klein lewe is egter alles behalwe klein aangesien die teks met ’n groot gehoor kan kommunikeer op grond van die verskeidenheid onderwerpe wat Adriaanse aanraak. Adriaanse noem verder talle gebeurtenisse wat aan die Suid-Afrikaanse leser bekend sal wees soos die dood van dr Verwoerd, die politieke onrus in die townships tydens die 1970’s en 1980’s, PW Botha se Rubicon-toespraak, seuns wat grens toe moet gaan en selfs later die dood van Eugène Terre’Blanche. Vir die hoofkarakter is dit asof al hierdie, en nog vele ander gebeure wat ook in die boek oorvertel word, haar identiteit en die mense om haar se identiteit vorm. (...)

"Myns insiens is die konsep van identiteit die belangrikste aspek van die roman. Vrae oor identiteit word herhaaldelik in die boek geopper. Ek vind ook Adriaanse se fokus op ontworteling interessant aangesien dit direk met identiteit verband hou. Soos reeds genoem, het die hoofkarakter reeds van ’n jong ouderdom met die idee kennis gemaak dat identiteit en velkleur dikwels verstrengel word. (...)

"Die boek kan daarom gesien word as ’n persoonlike reis vir die hoofkarakter waarin sy probeer om deur middel van haar eie storie haar teenwoordigheid in Suid-Afrika te verklaar. ’n Tweede belangrike aspek van die boek is die konsep van 'tuis wees' in ’n bepaalde plek. Die hoofkarakter ervaar baie ontworteling soos sy in haar kleintyd en later saam met haar man van dorp tot dorp trek. Hierdie konstante beweging ontwrig ook haar sin van identiteit omdat sy haarself elke keer weer aan nuwe mense in ’n nuwe omgewing moet bekend stel terwyl ’n gedeelte van haarself agterbly in die vorige dorp, en sy elke keer nuwe idees en ervarings van die vorige dorp na die volgende dorp saamdra. Dit is juis waarom die illustrasie van die voëltjie op die voorblad van die boek gepas is – die hoofkarakter ervaar haar lewe as een waar sy van nes tot nes vlieg, maar nooit te lank bly nie en elke keer wanneer sy aanbeweeg, bly daar altyd takkies agter, selfs al word die nes afgebreek. (...)

"Uiteindelik besef die hoofkarakter dat dit juis al die ervarings en ontwrigting in haar lewe is wat haar identiteit gevorm het en dat ’n mens nie anders kan as om vorentoe te beweeg nie. ’n Klein lewe is ’n maklike boek om mee te assosieer aangesien die onderwerpe so wyd is en daarom toelaat dat verskillende lesers verskillende gedeeltes van die verhaal kan eien. Adriaanse demonstreer ook deur die boek haar veelsydigheid as skrywer aangesien die boek afwyk van haar gewone skryfstyl wat in die liefdesverhaalgenre inpas. In my opinie is ’n Klein lewe nie ’n groot letterkundige werk nie, maar eerder ’n eenvoudige illustrasie van die vrese en vrae waarmee talle wit mense in Suid-Afrika worstel. En juis om hierdie rede is die boek van belang."

Vir Saartjie Botha in Beeld van 23 Julie 2012 is dit nie net ’n roman nie, maar kan dit ook gesien word as ’n "kultuurhistoriese dokument" wat ’n prentjie skets van ’n wit Afrikaanse gesin en hulle wêreld in die laaste helfte van die 20ste eeu. "Die motivering vir ’n Klein lewe en die herbesoek van ’n lewensroete word vroeg in die roman uitgespel: ’n hoofkarakter wat sin wil vind in haar teenwoordigheid in Suid-Afrika vandag, sodat haar kinders en hul tydgenote hul lotsbestemming beter verstaan. Sodat hulle motivering het om te bly, en nie deel word van die 'expat'-generasie uit onkunde nie.

"Die roman is ondanks die politieke ondertone ’n reis na begrip, nie na konfrontasie nie. Dis ’n persoonlike belewenis en belydenis wat niks meer as dit probeer wees nie. Die geldigheid van elke individu se ervaring is ononderhandelbaar.

"Adriaanse bied die ervaring in ’n beskeie stemtoon aan, baie bewus van ander se ervaring wat nooit gehoor sal word nie, en uiteraard met hare sal verskil. Haar skryfstyl is vlot en toeganklik, met hier en daar dialoog wat effens geforseerd voorkom. ’n Klein lewe is sterk aan te beveel vir almal wat bemoeienis het met herkoms, ook vir dié wat besef dat daar ’n veelheid van stemme nodig is om sin te maak van die land waarin ons leef."

Met haar volgende roman, Dubbelspel, begewe Wilna haar op ’n heeltemal nuwe terrein, naamlik dié van die misdaadroman. Sy vertel aan Phyllis Green (Sarie, 13 Junie 2014) dat sy nie hierdie sprong beplan het nie; trouens, sy was self effe verbaas. "Maar na 14 jaar van stories maak, vind ek dat stories universele eienskappe het. Selfs die romantiese genre het ook ’n spanningselement. En spanningsverhale het dikwels ook ’n romantiese draad. Die klem verskil dalk net. Op die ou end was die sprong toe nie so groot soos ’n mens sou verwag nie."

In Dubbelspel is die hoofkarakter Ellie McKenna. Wilna het een aand na ’n musiekuitvoering in ’n kerk geluister "en terwyl ek op ’n stadium ietwat verveeld rondkyk, het ek in my verbeelding ’n jong vrou sien orrel speel. Die volgende oomblik het twee mans agter in die kerk ingeloop en sy het dadelik geweet hulle soek haar. En ek was nuuskierig ..."

Ellie McKenna is in die polisie, maar haar hele wêreld word omgekeer wanneer haar polisieman-pa by ’n padblokkade doodgeskiet word. Sy wil met alle geweld help met die ondersoek na sy dood, maar mag nie. Ook beleef die land ’n aanslag van boewe – van die Chinese triades tot die Russiese mafia en die plaaslike dwelmbase. Die eenheid vir ernstige misdade waar Ellie werk, is betrokke by die ondersoeke.

Ellie se vriend, Albert Greyling, is ook ’n polisieman en hy ondersoek die Kaapse dwelmbase en wil vir Ellie in sy klandestiene ondersoek gebruik, wat sal beteken dat sy moet bedank. Op hierdie manier raak sy betrokke by mense wat almal op een of ander manier met skelmstukke besig is. Sy ontmoet ook vir Nick Malherbe, hoof van een van die skelmfamilies se sekuriteit.

Wilna moes baie navorsing doen vir Dubbelspel, want sy het nie veel kennis gehad van die wêreld waarin sy haar boek wou plaas nie. Sy vertel aan Phyllis Green: "Maar ek het wonderlike mense raakgeloop wat bereid was om met my hulle ervaring en kennis te deel. Dit is een van die lekkerste byvoordele van skryf – die interessante mense wat ’n mens so deur die navorsing ontmoet.

"Wat ook interessant is, is hoe die werklikheid dikwels die verhaal waarmee ek besig is naloop. Miskien is ek net baie meer oplettend, maar gedurende die skryf van die storie het daar ’n hele paar dinge in die nuus gebeur wat baie mooi by die storie ingepas het. En het ek ook toevallig in gesprekke beland waar ek waardevolle inligting gekry het."

In Die Burger van 3 Mei 2014 vertel Wilna verder oor die mense met wie sy gepraat het om inligting vir Dubbelspel te kry: "Ek moes wyd praat, maar meestal met mense wat ek nie kan noem nie. Maar dis ook interessant hoe ’n storie momentum kry. ’n Toevallige gesprek met ’n joernalis. ’n Onverwante vraag aan ’n speurder. Laataand in Seepunt se strate. Iemand wat eerstehandse kennis het van geldwassery.

"Kenners op die gebied van die veiligheidsbedryf. Koerantberigte wat stories wat aanvanklik vergesog geklink het, bevestig. Dit was asof almal net op die regte tyd hul verskyning gemaak het.

"Terwyl ek besig was om die boek te skryf, sit ek per geleentheid in ’n vliegtuig langs ’n oudpolisieman wat nou seerowers jag in die Indiese Oseaan tussen die kus van Oos-Afrika en Asië. Toe hy my vertel wat hy doen, raak ek aan die lag. Want wat was die kans dat ek juis toe langs hom sou beland?!"

Elbie Adendorff skryf op LitNet dat hoewel Wilna in Dubbelspel wegbeweeg het van die romantiese verhale, is die karakterisering, die verhoudings en storielyne nog net so ingewikkeld soos haar vroeëre werke. Vir haar is Dubbelspel ’n "lekkerlees-spanningsverhaal met ’n goeie storielyn en interessante karakters. Dit boei die leser van die begin af en bied ’n blik op ’n wêreld waarvan min lesers sekerlik sal weet. Die ingewikkelde verhoudingspel en intriges maak dit ’n boek wat nie maklik neergesit kan word nie en daarom beslis aanbeveel word om te lees."

In Die Laevelder skryf Liezel Lüneburg dat die einde van Dubbelspel haar met ’n skok getref het en vir die eerste keer in ’n lang tyd wou sy nie ophou lees nie: "Dubbelspel is ’n gepaste titel. Bykans al die karakters in die boek speel ’n dubbelspel en lei in verskillende grade ’n dubbele lewe. Elkeen kies waar, wanneer en tot watter mate hy of sy die spel bekend wil maak – indien enigsins. Die reëls verander deurentyd en die leser moet kophou om die slim, dikwels versteekte nuanses en storielyne te volg. Die storie lewer keer op keer aangename én onaangename verrassings op en laat die leser vinnig onder die indruk kom dat niémand en niks te vertrou is nie.

"Wilna Adriaanse is eintlik bekend vir boeke met ‘n romantiese storielyn. In Dubbelspel spring sy na ’n spanningsverhaal en bewys haarself as ’n uitmuntende skrywer wat (...) enige genre met sukses sal kan aanpak. Tog het Dubbelspel ook ’n opwindend-romantiese lyn en ek kan nie wag om te sien waarheen hierdie lyn in Eindspel beweeg nie.

"Afrikaners hoef nie meer nét Amerikaanse, Engelse en Skandinawiese spanningsverhale te lees nie. Daar is menige spanningsverhaal wat in Suid-Afrika afspeel en oorspronklik in Afrikaans geskryf is. Ek geniet hierdie boeke omdat die omgewing en agtergrond dikwels bekend is. Ek ken die plekke waar die tonele afspeel. Verder is die taalgebruik en woordkeuse ook bekend. Dalk omdat dit oorspronklik in mý taal geskryf is en nie in Afrikaans vertaal is nie. Wilna Adriaanse het dit reggekry om die boek só te skryf dat ek in ’n sekere mate met die gesprekke en mense kan assosieer. Die karakters tree op en praat soos wat ek verwag het hulle moet. Ek lees verskillende genres, maar spanningsverhale tel onder my gunstelinge. Van die menige Afrikaanse spanningsverhale wat deesdae op die rakke beskikbaar is, tel Dubbelspel nou onder my witbroodjies. Dit is definitief oor en oor die lees werd!"

In Beeld (10 Mei 2014) is Ilza Roggeband dit min of meer eens met die ander resensente. "Dubbelspel lees teen ’n stewige pas en die spanningsdraad is styfgespan. Hierdie is nie ’n boek met ’n einde nie. Reeds voor in die boek word die leser gewaarsku dat dit die eerste deel van ’n tweeluik is. Dubbelspel is egter ’n heerlike voorgereg en te oordeel aan die kort uittreksel uit die opvolg, Eindspel, wat agterin Dubbelspel geplaas is, beloof die tweede gereg om net so ’n goeie leeservaring te wees. Ellie en Nick se storie is beslis nog nie klaar vertel nie."

Wilna vertel aan Rachelle Greeff (Rapport, 11 Junie 2014) dat sy nie aanvanklik ’n tweeluik beplan het nie. "Die storie wat ek aanvanklik begin skryf het, gaan nou die tweede boek word. Terwyl ek daarmee besig was, het ek besef Ellie het ’n stuk geskiedenis wat eers vertel moet word, anders gaan ek te veel terugflitse moet gebruik. Ek is seker ek gaan vorentoe nog wil weghardloop, maar dit sal nie ’n nuwe gevoel wees nie. Ek ervaar dit met elke boek.” 

Dubbelspel is op die kortlys vir 2015 se ATKV-Woordveertjieprys vir spanningslektuur.

Oor die vordering met Eindspel vertel Adriaanse aan Greeff: "Omdat ek reeds ’n ent weg was met Eindspel voordat ek Dubbelspel begin het, het ek darem nie met ’n wit bladsy begin nie en is daar al heelwat storiemateriaal wat lê en wag om verwerk te word. Ek is kliphard daarmee besig, maar die lesers moet Ellie darem ook ’n bietjie mis voordat sy weer haar opwagting maak." 

In 2017 verskyn die langverwagte vervolg op Dubbelspel onder die titel Eindspel en dit beteken dan ook die einde van Ellie, die polisievrou, se verhaal. Eindspel is in 2018 bekroon met die Graffiti Boeke/Lekkerlees Boekrakprys.

Die roman begin met Ellie wat op die platteland bly en ’n heel gemaklike en lekker lewe voer. Sy is die plaaslike orrelis en sy en die dominee hou baie van mekaar. Maar soos dit moet gebeur, is die vredige bestaan nie van lange duur nie. Een Sondag sien sy in die truspieëltjie van die orrel twee mans met donkerbrille die kerk instap, en instinktief weet sy dat hulle op soek is na haar.

Sy gaan terug stad toe en daar moet sy hoor dat ’n vriendin en haar minnaar ontvoer is. Saam met haar oudkollegas in die polisie, en veral saam met kolonel Nick Malherbe, begin sy ’n soektog na die twee.

"Soos een van die karakters waarneem, is hierdie soektog soos ’n legkaart waar stukkie vir stukkie ingepas word," het Cas van Rensburg in Volksblad (3 April 2017) geskryf. "Die eienaardige ding is dat ’n mens geen oomblik verveeld raak nie. Terwyl niks asemrowends gebeur nie, word die spanning volgehou. In aansluiting hierby is die manier waarop die gebeure in Dubbelspel hanteer word. ’n Mens sou verwag dat lesers wat dit nie gelees het nie, iewers in die boek ’n aanduiding sou kry van wat vooraf gebeur het. Adriaanse is meer subtiel. Hier en daar is daar ’n skuins verwysing; ’n legkaart binne ’n legkaart. Soos gesê: Slim.

"Kennismaking met die karakters is nogal verkwikkend. Adriaanse het ’n slag met die inklee van verskillende mense. Dis opmerklik hoe sy karakters deur hul taalgebruik definieer. (...) ’n Karakter soos Ellie word amper ’n huisvriend. Sy is hardegat, befoeterd, weerloos en het ’n diepe hartseer wat soos ’n sluier oor haar hang. (...)

"Tussen haar en Malherbe is daar ’n vertrouensbreuk en hulle sit gereeld vas. Die leser kan egter amper die diepliggende aangetrokkenheid tot mekaar ruik. (...) Nader aan die einde draai Adriaanse de vlam op. Mense word geskiet, die verdwene minnaar opgespoor en die ontvoerde meisie gekry. In hierdie gedeelte loop die spanning hoog, en hou ’n mens regtig asem op.

"Die beskrywing van die gebeure is ontstellend realisties, maar die leser word beloon met ’n ontknoping wat ’n verrassing in die oortreffende trap is. ’n Mens kan die boek net hiervoor lees."

Ook Elbie Adendorff is op LitNet baie positief oor Eindspel: "Tipies Adriaanse is die ingewikkelde storielyn en dat die karakters nie eensydig en stereotipies uitgebeeld word nie. Dit lees nie moeilik nie, maar tog is die storielyn nie eenvoudig en maklik nie. Spanning word deurgaans opgebou en die onsekerheid rondom Clara se ontvoering en Enzio se verdwyning hou die spanningslyn hoog. In hierdie storielyn word skerp kritiese kommentaar oor hedendaagse Suid-Afrika gelewer. Dit laat die leser nadink oor die probleme in ons land – veral wat misdaad betref. Die karakters in Eindspel is deurleefde karakters wat getrou uitgebeeld word. Al is die misdaadwêreld nie een waarmee almal sal kan identifiseer nie, is die karakters in daardie ruimte en die polisieruimte lewensgetrou.

"Die verhaal van Ellie is ’n lekker verhaal om oor ’n naweek te lees. Ja, daar is die voorspelbare gelukkige einde, maar die heldin, Ellie, is sterk, denkend en onafhanklik, net soos Nick ook sterk en onafhanklik is. Ellie is aan die begin van die roman stukkend: emosioneel en fisiek: 'En in die plek daarvan rooi, opgehewe hale, soos merke op ’n snybord. En een lang letsel van haar bors tot by haar naeltjie.' Aan die einde van die roman is sy heel: 'Dis soos hoop voel, besluit sy êrens in die nag. Hoop op iets normaals. Sy wil nie dink dat sy dit vir iemand laat doen het nie. Dit moet haar geskenk aan haarself wees. Hierdie behoort net aan haarself.' Maar Ellie en Nick is feilbaar en moes eers op hulle eie introspeksie gaan hou voordat die eindspel tussen hulle kan begin."

Jonathan Amid is die resensent van Eindspel in Rapport van 12 Maart 2017: "Adriaanse lewer besliste maatskaplik-politieke kommentaar op die aard en klimaat van misdadigheid in Suid-Afrika, asook die soort rolspelers wat die meeste by georganiseerde misdaad baat vind. Veral prysenswaardig is die insiggewende blik op die lewens van dié wat opgesaal is met die taak om van ons land ’n veiliger plek te maak.

"Die twee karakters wat die grootste impak maak met die lees van Eindspel, en die sentrale verhouding wat die sterkste ontgin word, is dié van Ellie en Nick. (...) Sowel Ellie as Nick is besonder goeie verkleurmannetjies, gebroke randfigure wat veg vir reg en geregtigheid en vergelding in ’n milieu waar dit al hoe moeiliker raak om die goeie van die bose te onderskei.

"Eindspel se grootste oomblikke (en daar is heelwat) is geskoei op Adriaanse se bereidwilligheid om minder op die plot en polisie-prosedure, en meer op karakterontwikkeling en handeling te fokus. Adriaanse se ervaring as liefdesverhaalskrywer is nuttig in die vorm van die teer, onvoorspelbare, humoristiese en uiteindelik bevredigende verhouding tussen die geregsdienaars."

Amid sluit sy bespreking as volg af: "Deur ’n onsentimentele, volwasse liefdesverhouding eerder as gewelddadige aksie en oordrewe strewe na spanning Eindspel se spilpunt te maak, bou Adriaanse ’n herkenbare dog steeds innemende wêreld waar die verhaal organies voortstu. Lesers sal hulle kan verkneukel in ’n vertelling wat dadelik vra na ’n herlees: Adriaanse-aanhangers kry waarde vir geld."

Oor watter boeke met haar kop kan smokkel, vertel Wilna aan Beeld (2 Julie 2012): "Sedert my vroegste kinderjare word ek deur stories bekoor en van my kosbaarste herinneringe het met stories en boeke te doen. Om een skrywer of boek uit te sonder is egter onmoontlik. Elke boek word teen ’n spesifieke agtergrond gelees.

"Sommige boeke verloor met ’n herlees daardie eerste betowering, terwyl ander jou keer op keer verlei. As ek net drie kan uitsonder, al drie boeke wat ek in die afgelope twee jaar gelees het, sal dit wees Die sneeuslaper deur Marlene van Niekerk, The ­Elegance of the Hedgehog deur Muriel Barbery en Death in Venice deur Thomas Mann.

"Ek het aanvanklik gesukkel om al drie te lees, want dit was nie stories wat dadelik tot my gespreek het nie, maar op ’n dag was ek binne die verhale vasgeknoop en kon ek nie anders as om dit enduit te lees nie.

"Om te besluit wat my in elke boek vasgevang het, is soos om kwik te probeer vasknyp. Een of twee gedagtes wat my ná die lees daarvan bygebly het, is die volgende: In Die sneeuslaper word verwys na die lewerikspieël wat vanaf die vroegste tye gebruik is om voëls na nette of skutters te lok. Vir my is die skrywer se ekonomiese woordgebruik en ryk beelde die spieël wat my begogel het. En die manier waarop sy die stories vervleg totdat jy nie meer weet wat jy glo en of jy moet waag om te glo nie.

"In Elegance of the Hedgehog het dit gevoel of ek ’n baie skaars afloergeleentheid kry. Nie net agter die deur van Renée, die concierge nie, maar ook al die ander karakters wat haar wêreld deel. Sy beskryf karakters wat jou lank bybly. Wat jou op ’n dag baie subtiel met jou eie vooroordele en vooropgestelde gedagtes konfronteer.

"Ek kon my nie vereenselwig met die hoofkarakter in Death in Venice nie en tog het ek êrens in die boek ’n emosie herken, of eintlik meer aan eie lyf gevoel. Dit was soos om omgeboul te word wanneer jy dit nie verwag nie.

"Soos ek genoem het, is dit moeilik om stories soos hierdie binne ’n paar woorde te beskryf. Dit is boeke wat gelees en herlees moet word. Daar is min dinge so lekker soos ’n naelbyt-spanningsverhaal, ’n goed geskryfde liefdesverhaal of ’n tong in die kies komedie. Maar daar is ook ’n byna pynlike lekkerkry in die lees van ’n boek wat so met my kop smokkel."

Publikasies:

As Wilna Adriaanse

Publikasie

’n Ongewone belegging

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2003 (Grootdruk)

ISBN

  • 0624040623 (sb)
  • 1415000158 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Jasmyn
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Alleenvlug

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2005 (Grootdruk)

ISBN

  • 0624041743 (sb)
  • 141500319X (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die reuk van verlange

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624041212 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Serenade vir ’n nagtegaal

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624042413 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Rebecca

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2005
  • 2009

ISBN

  • 0624042510 (sb)
  • 9780624048206 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hande wat heelmaak

Publikasiedatum

2005

ISBN

0624043142 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Hartklop

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met ander woorde

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044556 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die boek van Ester

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046837 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-prys vir Beste Liefdesroman 2009

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 1: ’n Ongewone belegging; Alleenvlug; Die reuk van verlange

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624048053 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Jasmyn

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vier seisoene kind

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624048671 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

ATKV-Woordveertjie vir liefdesromans 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Omnibus 2: ’n Heildronk op die liefde; Serenade vir ’n nagtegaal; Hande wat heelmaak

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624049302 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Omnibus 3: Die wingerd sal weer bot; Liefde is ’n kleur; Brug van woorde

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053859

Uitgewers

 

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

’n Klein lewe

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780624054672 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dubbelspel

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624068037 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eindspel

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780624075301 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels; Endgame 2019; vertaal deur Elsa Silke

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Wilmine Burger

Publikasie

Die wingerd sal weer bot

Publikasiedatum

2000 (Grootdruk)

ISBN

0799327875 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Heildronk op die liefde

Publikasiedatum

2002

ISBN

0799329622 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

LAPA Uitgewers se Liefdesroman-prys 2003

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brug van woorde

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799332526 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Liefde is ’n kleur

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799332542 (hb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 Artikels oor Wilna Adriaanse beskikbaar op die internet

 
Artikels deur Wilna Adriaanse beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Wilna Adriaanse (1958–) appeared first on LitNet.

Riana Scheepers (1957–)

$
0
0

goed van Riana Scheepers

Oor erkenning: “Enige skrywer wil erkenning hê en weet hy lewer ’n produk wat vir iemand anders waardevol is. Ongelukkig lewe ons in ’n samelewing wat erkenning meet aan geld en goed. Natuurlik is dit goed om finansiële vergoeding te kry. Tog moet ’n skrywer ontvanklik wees vir die erkenning wat soms op onverwagse maniere na jou toe kom. Wanneer ek stories skryf vir die nuutgeletterde vroue en ek sien hoe word my skepping gebruik om hulle te leer lees, vervul dit my. Ek het iets gedoen wat nie in geldwaarde gemeet word nie, maar meer werd is as al die prysgeld wat ek al ooit gekry het.” (Taalgenoot, Mei 2003)

Aan die einde van die eeufeesvieringe van die Anglo-Boereoorlog: “Ek wens die Afrikanervrou toe dat hulle kaalvoet én katvoet sal loop. Kaalvoet, omdat sy die dapperheid en deursettingsvermoë moet hê om oor enige Drakensberg van die toekoms te loop, en sal moet baklei vir dít wat vir haar belangrik is. Katvoet, omdat sy die wysheid moet hê om op te tree met vroulikheid, waardigheid en ’n fyn ontwikkelde sin vir eerlikheid en regverdigheid teenoor álmal in ons skitterland onder die Suidersterre.” (Volksblad, 3 Junie 2002)

Oor leesgewoontes op skool: “Alles! Gelukkig het niemand, nie my ma of my onderwysers, my van volwasse boeke probeer weghou nie. Ek het Brink en Breytenbach gelees toe almal na hul asems gesnak het. Ek het van poësie tot liefdesverhale en biografieë gelees.” (Rapport, 6 Mei 2001)

“Ons het dit nie toe geweet nie, maar ek besef nou eers hoe arm ons grootgeword het. Daarom is ek so dankbaar teenoor my ma dat sy vir my boeke gekoop het. Ek weet nie hoe sy dit kon regkry met die bietjie geld wat sy gehad het nie. Ek weet nie of ek eenvoudig beslag gelê het daarop nie, maar daar was altyd die gevoel dat die boeke in die huis mý boeke was.” (Beeld Plus, 22 September 2001)

KKNK-rede: “Ek weet nie wat my toekoms as skrywer is nie. Dit bekommer my ook nie meer so baie nie. In die verlede het ek nogal arrogante uitsprake gemaak oor die toekoms van ons taal en ons land. Ek doen dit nie meer nie, want ek het vir myself ’n nuwe taak gestel. Ek wil in hierdie land bly sodat ek kan voortgaan met my werk, om te skryf in die taal van my hart en my niere.” (LitNet)

“My vertalings het my oor die wêreld geneem; dis ’n groter beloning as die geld wat ek so verdien. Ek is ’n reisiger, wil altyd elders wees. Ek weet wat my boeke vir Europese lesers bied: ’n gees en sfeer uit ’n donker, diep oerbron, die Afrika-grond. Van my wonderlikste ervarings was om te sien met hoeveel verwondering ’n Europese leser my verhale lees – en intens ontroer word. Ek dink tóg ons leef in Afrika met ’n groter emosionele register. ’n Verhaal is nie net ’n reis nie, maar ook ’n deur – na ’n mens se hart.” (Die Burger, 10 Desember 2007)

Passies van Riana: “Dennebolle. Soos ander mense klippe en skulpe versamel, so dra ek dennebolle na my huis aan. Vir my is dit gepoleerde hout, saad, ’n beeldhouwerk wat kunstig uitgebeitel is ... dis ’n simfonie van simmetrie en struktuur. ’n Dennebol verander. Die stywe korf van ’n toe dennebol gooi maande later in jou huis sy luike oop en kletter sy pitte uit, soos ’n vrou wat wasgoed oopskud en uitsprei. ’n Dennebol is een van die lieflikste dinge wat God gemaak het.” (Sarie, 17 November 1999)

“Maar wat my die meeste beïnvloed het, omdat dit van my ’n skrywer gemaak het, was die stories wat my swart ouma vertel het. Saans in die hut of om die vuur het Juba se Zoeloesprokies in my ’n bewuswording van Afrika gekweek. Dit gee ’n mitiese dimensie aan my skryfkuns, eintlik aan my hele lewe.” (Cultureel: suppl NRC Handelsblad, 17 Oktober 1997)

Oor dit titel Feeks: “Ja, die woord feeks is nogal ’n baie provokatiewe woord. Jy het oombliklik ’n emosionele reaksie daarop. Wat vir my belangrik is, is dat die woord fee en die woord heks saamgetrek word in die woord feeks. Ek is heeltemal oortuig daarvan dat daar in elke vrou ’n bietjie heks is, en ek dink dit is reg ook, die vrou is nog steeds ’n misterieuse wese. Net so is daar ook die misterie, die towerkrag, die ligtheid en die bewondering vir iets so mooi en so vlugtig en so pragtig soos ’n feetjie.” (Kaapse Bibliotekaris, Maart/April 2000)

In 1992: “Ek skryf nie om mense gerus te stel nie, want ek glo niks kan die werklikheid mooier maak nie. Hoekom moet ’n mens die politieke geweld in Natal mooi maak? Skryf is ook vir my ’n persoonlike daad. Ek skryf oor dit wat my bang maak.” (Beeld, 12 Maart 1992)

Oor feminisme: “Ek het nie ’n behoefte om my oortuigings in die publiek uit te blaker nie, maar vroueregte lê my na aan die hart. Ek is ’n slegte feminis. Ek loop nie met plakkate nie. Vroue moet hulself vind. Hulle moet hul regte gebruik, want niemand gaan dit sommer vir hulle gee nie.” (Beeld, 12 Maart 1992)

Hoe versoen sy haar akademiese loopbaan met haar skryfwerk, en wat van die ewige vraag oor beïnvloeding? “Dit is inhiberend. Dit maak jou oorbewus van stylfoute en ek vind akademiese taal tog so kunsmatig en blasé.” (Beeld, 12 Maart 1992)

“Die grootste spronge wat ek nog geneem het, die onverantwoordelikste dinge wat ek nog aangevang het, het die grootste dividende gelewer.” (Rooi Rose, 10 Maart 1993)

In 1995 oor die toekoms van Afrikaans: “Ek het ’n onverbiddelike geloof in die taal en sy vitaliteit. Wat dalk Afrikaans se redding gaan wees, is juis dié dat dit minder op TV gebruik gaan word. Jy gaan weer geslote gemeenskappe kry wat Afrikaans suiwer praat sonder kontaminasie van Engels. Hoekom praat die Namakwalander sulke mooi Afrikaans? Hulle was afgesonder.” (Sarie, 29 Maart 1993)

“Ek stem saam met die stelling dat Afrikaans vir Nederlanders ’n opening, ’n wye venster na ’n onbekende wêrelddeel kan wees. Die eksotiese van Afrika – die milieu, die volstrek viriele landskap ... Wanneer ek oor erotiek skryf, is dit in ’n ander konteks as wanneer hier in Nederland daaroor geskryf word. Die tema sal nooit uitgeskryf wees nie. Dis ’n ander konteks: die erotiese belewing van ’n landskap, die spanning tussen wit en swart wat so lank nie ‘mag gewees het nie’.” (Die Burger, 24 Oktober 1996)

Oor haar fassinasie met Jeanne d’Arc: “Vir my verteenwoordig Jeanne d’Arc die soort vroue by wie ek aanklank vind en oor wie ek graag skryf – doelgerigte, begeesterde vroue, nie noodwendig mooi en gewilde vroue nie, maar vroue met vuur.” (Rapport-Boeke, 7 Oktober 2012)

“’n Gemsbok op ’n rooi Kalahari-duin is vir my die kroon op God se skepping, soos ook ’n berg en ’n boom, want hulle gehoorsaam die natuurwette. Die mens nié. Veral nie diegene wat die aarde stroop nie. Menseregte sê elke mens is geregtig op x-aantal water, lug, kos, grond ... maar wie luister ooit na die grondwet van die aarde?” (Beeld, 30 September 2009)

“Partykeer is iets so na aan jou hart, so pynlik en intens, dat jy nie daaroor kan skryf nie, maar jy weet jy moet. Dan skryf ek in die derde persoon. En wanneer iets my fassineer, soos prostitute of nonne, vertel ek hul verhaal in die eerste persoon.” (http://nb.bookslive.co.za/blog/2009/09/11/riana-scheepers-deel-geheime-oor-katvoet)

“’n Goeie kortverhaal is volgens Scheepers net so dig verweef soos ’n gedig. Jy kan dit weer en weer lees om betekenisse te ontsluit. As sy simbole in haar verhale gebruik, is dit altyd met ’n spesiale doel.” (http://nb.bookslive.co.za/blog/2009/09/11/riana-scheepers-deel-geheime-oor-katvoet)

Watter skrywer inspireer haar? “Elke skrywer op aarde. Party intimideer my, party inspireer my, party maak my só vies dat ek terstond besluit om ’n beter produk te wil lewer. Ek lees wyd en in alle genres, en by elkeen kan jy iets leer – ook wat jy nié moet doen nie.” (Vrouekeur, 15 Junie 2018)

“As ek die ruimte goed ken; intiem ervaar het, dan het ek ’n verhaal. Dan ontwikkel die karakters vanself. As ek my ruimte ken, kan ek skryf.” (Vrouekeur, 15 Junie 2018)

Gebore en getoë 

Wilhelmina Adriana Scheepers, gebore op 9 Desember 1957 in Vryheid, KwaZulu-Natal as die derde van vier kinders, stam uit ’n familie van formidabele vroue. Sy sê self dat sy maar ’n flou skadu van haar ma Myra is. Haar ma, wat in die destydse standerd 8 (vandag graad 10) uit die skool is om geld te verdien, is ’n goeie mens, ’n platjie, ’n stout mens en iemand met ’n fantasievermoë, vertel Riana aan Suzette Truter.

Sy kom uit ’n spoorwegwerkersgesin en haar pa is oorlede in ’n treinongeluk toe sy ses was, vertel sy aan Suzette Truter (Sarie, 29 Maart 1995) Op aandrang van haar oupa trou haar ma later met haar pa se jonger broer, Adriaan. Riana se jongste seun is na hom vernoem.

Sy word groot in Vryheid in Noord-Natal saam met die Zoeloekinders en woon van haar negende tot elfde jaar in Pongola. Dit is daar waar sy leer Zoeloe praat het en waar haar stories vandaan kom.

Riana het ’n ryke verbeeldingswêreld as kind gehad, vertel sy aan Suzette Truter: “Ek het nie soos ’n dogtertjie grootgeword nie, en ek is bly daaroor. Ons het hard grootgeword. Ek het nie speelgoed gehad nie; ons was regtig wild. Ek het ’n foto van myself in standerd vier met twee sulke stywe vlegsels en jeans. Lelik, hoor. Ons is nie in valletjies uitgedos nie. My lekkerste maats was swart kinders. As jy van ’n kreatiewe wêreld praat, moet jy kyk hoe speel hulle.

“My helderste indrukke is van aande dat ek na die Zoeloe-verteller se hut gegaan het. Die vertelritueel is ’n tradisie wat verlore raak. Selfs daar in die stat het hulle nou TV-stelle wat met batterye werk.”

Riana voltooi haar laerskoolloopbaan in Pongola en in 1975 skryf sy matriek aan die Hoërskool Vryheid, waar sy ook hoofmeisie is. Sy verwerf provinsiale kleure vir atletiek, swem en sierduik.

Sy wou van kleintyd af skryf. Sy onthou dat sy die afskuwelikste gedigte oor die dood op skool geskryf het – alles in reaksie op haar pa se vroeë dood. Toe sy ses was, het sy geweet hy is in die hemel, maar as adolessent was sy baie kwaad vir haar pa oor hy dood is. Sy het in 1972, toe sy vyftien jaar oud was, ’n gedig aan haar stiefpa geskryf, en dit is later in haar eerste digbundel, Met die taal van karmosyn, opgeneem.

Op skool vul sy haar sakgeld aan deur vir die tienerblad van Huisgenoot te skryf. Eenkeer neem sy onder drie verskillende name aan ’n opstelwedstryd deel en wen eerste, tweede en derde prys. Met hierdie geld koop sy boeke, want sy is altyd baie lief vir lees. Sy word op die platteland groot met die lug en die ruimte, en gelukkig met baie boeke.

Haar onderwyser op skool, Danie Jacobs, het al haar werk gelees en beoordeel en wou op ’n stadium ’n bundel met haar skryfwerk uitgee. Vandag is sy baie bly dat dit nie gebeur het nie en dat sy eers werklik as volwassene begin skryf het.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Riana na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), waar sy haar inskryf vir ’n BA-graad in kommunikasiekunde, met Afrikaans-Nederlands. Sy verwerf haar graad cum laude in 1978 en in 1984 haar honneursgraad, ook cum laude. In 1987 behaal sy haar MA-graad (cum laude) onder leiding van Hennie van Coller met ’n proefskrif getiteld “’n Onderskeiding tussen leë en betekenisdraende tekens in die literêre kommunikasieproses, geïllustreer aan die hand van Koos Prinsloo se ‘Die jonkmanskas’”.

Tydens haar jare aan UOVS blink sy nie net op akademiese gebied uit nie, maar ook op vele ander terreine: In 1976 wen sy die eerstejaarsredenaarskompetisie en word die Volksblad-prys vir beste eerstejaarstudent in Afrikaans-Nederlands aan haar toegeken; in 1977 word sy verkies tot primaria van Huis Wag-’n-Bietjie en tot redaktrise van die Irawa, tot voorsitter van die Afrikaans-Nederlandse Vereniging en in 1978 tot die Studenteraad, en wen sy die DF Malherbe-prys vir die beste derdejaarstudent in Afrikaans-Nederlands. Dieselfde eer val haar te beurt in 1984, toe sy aangewys word as beste nagraadse student in Afrikaans-Nederlands. Terselfdertyd word sy ook aangewys as die beste honneurstudent op die kampus. In 1985 ontvang sy die Oom Lokomotief-beurs vir haar MA-studie en in 1986 ontvang sy ook die SANRA-prys vir kreatiewe skryfwerk (prosa).

In 1979 trou sy met Dirk Botha, ’n sakeman van Bloemfontein, en twee kinders, Floris en Adriaan, word uit die huwelik gebore. Sy en haar man skei in 1988.

Vanaf Januarie 1985 tot Maart 1988 werk Riana as akademiese assistent aan die UV se Departement Afrikaans-Nederlands. In 1988 vertrek sy om as lektrise klas te gaan gee aan die Universiteit van Zoeloeland tot April 1990, waarna sy lektrise word aan die Universiteit van Kaapstad – ’n pos wat sy beklee tot die einde van 1994. In 1995 word sy aangestel as skakelredaktrise by Tafelberg Uitgewers. In 1998 vertrek sy na Stellenbosch en bring sy die Stellenbosse Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke op die been. Sy is in daardie tyd ook Afrikaans-onderwyser aan Paul Roos Gimnasium. Nadat sy in die laat 1990’s by Paul Roos bedank het, het sy besluit om meer tyd in haar huisie op Paternoster deur te bring (vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt, Beeld, 22 September 2001).

Riana se eerste bundel kortverhale, Die ding in die vuur, verskyn in 1990 en sy het onmiddellik ’n impak op die Afrikaanse letterkundige toneel. Die bundel word in 1991 bekroon met die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa en in 1992 ontvang sy ook die FAK se Kaaplandse Helpmekaar-prys vir Ontspanningsleesstof.

Riana het oor die toekenning van die ATKV-prys aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992) gesê dat dit soos ’n “bliksemstraal uit die hemel was. Ek het dit glad nie verwag nie.”

Met die ontvangs van laasgenoemde prys sê Riana: “Skryf is ’n eensame werk. Skryf is die werk van stukkende mense – en ’n mens verwag nie dat jy bekroon sal word vir die stukkende woorde van jou belewenisse nie” (Rapport-Tydskrif, 18 Januarie 1998).

Die ding in die vuur se oorsprong lê in Zoeloeland, vertel Riana aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992): “Daar het ek grootgeword en my verstand gekry. Dit was die mense wat die naaste aan my was. As dit skemer word, het ek ook aan die ugogo (storieverteller) se voete gesit en luister soos die kinders in die slotverhaal van Die ding in die vuur:

‘Die kinders wag. Ongeduldig, maar sonder om ’n woord te sê. Hulle weet dat haar siel eers moet saampraat met die mense en die dinge van die storie voordat sy kan begin’.”

Nadat Riana klaar studeer het, is sy terug na Zoeloeland – hierdie keer het sy ’n Westerse verwysingsraamwerk en uitkyk saamgeneem. En dít was hierdie fassinerende kombinasie van twee wêrelde wat uitgeloop het op Die ding in die vuur. Sy het net vier maande nodig gehad om dit te skryf.

“Die stories is in die storieverteltradisie van Afrika geskryf, waarin onder meer die wêreld van die Zoeloevrou en kind geskets word, maar veral wêrelde in stryd met mekaar. Soos om tegelyk ’n Europeër en Afrikaan te wees,” skryf Laetitia Pople.

Oor Riana se debuutbundel skryf Joan Hambidge (Beeld, 28 November 1990) dat dit “al die kompleksiteite van ons wit bestaan uitlig. Dit is wat my betref ’n besonderse debuut. Me Scheepers maak ons as lesers daarop attent dat ons stryd op hierdie kontinent nie vervlak moet word tot ’n politieke ‘struggle’ nie, maar dat ons ons moet oorgee aan die paradoks van ons Westerse en Afrika-bestaan. (...)

“Hierdie twaalftal verhale sluit onder meer by ’n Zoeloe-verteltradisie aan en is terselfdertyd hoogs modern en selfs post-modernisties in aanbod. (...)

“Die verhale word meesterlik vertel; telkens met die suggestie van ’n (Afrika-)oerwêreld. Soos die blakerteks dan ook sê: die skryfster het ook die vermoë om soos haar ugogo skielik in die vuur te spoeg.

“Die opposisie tussen skrif en spraak word insgelyks knap uitgewerk in hierdie verhale. Dit gaan primêr om die beswering van pyn en die driftige. Die vermoë om ’n droomwêreld op te roep, blyk ook ’n gawe van hierdie skryfster te wees wat veral in die kragtige slotverhaal ‘Abantu oNgoy‘ nie alleen die belangrikste motiewe van hierdie bundel saamsnoer nie, maar veral ’n goeie opsomming gee van ál die konflikte in ons samelewing. Dit is ongetwyfeld verhale met vuur.”

In Insig van Februarie 1991 skryf Louis Venter: “In die Afrika waarvan Riana Scheepers in haar debuutbundel vertel, is daar nie tyd of plek vir week gedagtes of vrae of huiwering nie. Wie Afrika as tuiste het, moet leer leef sonder luukses: die luukse van sinisme of privilegie, die luukse van ’n gekwelde gewete, van jammerhartigheid, van mededoë. Afrika vertroetel niemand nie, nie wit of swart nie, nie vrou of kind of man nie. (...)

“Die beste verhaal in die bundel, een wat in Afrikaans klassiek gaan word, het nie ’n vrou nie maar ’n kind as hooffiguur. ‘’n Kind en ’n vis’ is ’n verhaal met ’n pragtige geheim wat ek nie hier gaan verklap nie. Net dit: Elisabeth Eybers se opvatting dat skoonheid gebore word uit gemis, het in die verhaal uitgegroei tot ’n ongedwonge stukkie simboliek.

“Die laaste twee verhale in die bundel is verteltegnies interessant. In die een word die werklike geweld in Suid-Afrika uitgespeel teen die sisteem van die Afrikaanse literêre kritiek se manier van dink en skryf oor geweld. In die slotverhaal word die folkloristiese ugogo as sekondêre verteller gebruik om te vertel in ’n taal en oor ’n wêreld wat die witmens maar halfpad begryp.

“Die verhale in Riana Scheepers se Die ding in die vuur het goeie en selfs gedugte vertelkwaliteite. Soms is daar egter momente waar die verteller vertellerig en selfs ’n bietjie vertonerig raak; soms kry die leser die gevoel dat die teks die laaste bietjie effek uit ’n gegewe wil wring. Die wil om ekspressionisties te skryf en om mense te tipeer eerder as te individualiseer, maak die verhale soms grof en afstandelik. Maar die bundel dra baie bewyse van Scheepers se talent en verdien ’n uitgebreide leserskorps.”

In 1991 verskyn haar tweede kortverhaalbundel, Dulle Griet, en weer bly die bekronings nie agterweë nie. Sy ontvang daardie jaar se Eugène Marais-prys. Die titel van die bundel het sy oorsprong by ’n skildery van Pieter Breughel wat Griet uitbeeld waar sy vlug deur ’n landskap wat deur oorlog geteister is, terwyl sy haar aardse besittings styf teen haar lyf vashou. Die borsplaat en swaard in haar hand is ’n blyk van haar paraatheid.

Riana verduidelik aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992): “Hierdie skildery is vir my tekenend van ’n weerlose vrou wat terugveg, al word sy deur die lewe geslaan. Solank ons net handelend optree en nie in ’n hopie gaan sit nie. Jy moet jou eie saak beredder.”

Riana se kortverhale is in die storieverteltradisie van Afrika geskryf, waarin onder meer die wêreld van die Zoeloevrou en -kind geskets word, maar veral wêrelde in stryd met mekaar – soos om tegelyk ’n Europeër en Afrikaan te wees.

In die commendatio by die oorhandiging van die Eugène Marais-prys sê DH Steenberg: “Die belofte wat op te merk was in Die ding in die vuur, is vervul in die tweede, ryper bundel Dulle Griet, want hier is die bindkrag die sentrale vrouetema en die subtiele vroueperspektief. Die titel en titelverhaal verkondig dit reeds: die vrou in ’n dikwels onbehaaglike situasie.”

JP Smuts is in Rapport (1 Desember 1991) van mening dat Scheepers in Dulle Griet voortbou op die deeglike basis wat sy met haar eerste bundel gelê het. Dit is nie net die gehalte van enkele verhale wat beïndruk nie, maar ook die baie goeie samestelling van die totale bundel.

Smuts het voortgegaan: “As ’n mens egter een gemene noemer moet uitsonder wat die verhale in die bundel saambind, is dit die vrou. Die vrou is die naamlose sentrale personasie in baie van die verhale, Sy is minnares en prostituut; sy is eensaam en verlate binne ’n verkilde huwelik en ook daarbuite ná ’n egskeiding; sy is lesbiër, moeder, ontwakende dogter, burgerlike gesinsmens – in talle gestaltes is sy in hierdie bundel aanwesig. En alles word op die een of ander wyse saamgetrek in die sentrale figuur uit die Breughel-skildery ‘Dulle Griet’.

“Maar Dulle Griet moet ook binne die konteks van die hele skildery gesien word. Sy is die vrou wat gierigheid verpersoonlik en omring is van groteske gestaltes: monsters wat, in die idioom van Jeroen Bosch, die hel oproep en onder meer vraatsug, ydelheid en onreinheid verteenwoordig.”

Smuts het sy bespreking so afgesluit: “Nie al die verhale staan ewe sterk nie. Van die korter tekste mis die gedrongenheid en digtheid wat so eie is aan die werklike goeie kort-kortverhaal, en die slotverhaal raak algaande voorspelbaar en is te lank vir wat dit bied.

“In die sterkste toon Riana Scheepers egter dat sy ’n rasegte en taalvaardige verteller is wat op ’n dwingende slot kan afskryf, en in die strukturering van die bundel tot ’n sinryke geheel oortref sy haar debuutbundel. Die aanvanklike belofte tree met hierdie bundel in groter vervulling. Riana Scheepers is klaar een van die belangrikste jonger stemme op die terrein van die Afrikaanse kortverhaal.”

Ook AP Grové (Beeld, 30 Desember 1991) het voorbehoude gehad oor enkele verhale waarin die teenstellings kru en blatant aangebied is, met ander (soos “Poison”) wat weer te melodramaties vir hom was, maar hierdie kritiek geld nie vir die hele bundel nie: “Wat ’n mens ná die lees oorhou, is die besef dat ons hier ’n hoogs intelligente bundel het, ’n bundel met heelparty boeiende verhale wat in ’n helder, vitale prosa geskryf is. Waar dit hier gaan om die onregte wat die vrou moet verduur, meen ek dat Riana Scheepers ’n sterk verweer besit, naamlik die talent om as skryfster die insigte waartoe sy deur waarneming, belewing en besinning gekom het, in lewende gestaltes te ban en in ’n oortuigende struktuur vas te vang.”

Hierdie twee bundels word in 1995 as ’n bloemlesing in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens onder die titel Dulle Griet. Riana se volgende kortverhaalbundel, ’n Huis met drie en ’n half stories (1994), word ook in Nederlands uitgegee, onder die titel Onbevlekte ontvangenis. ’n Herdruk van hierdie twee bundels word later in Nederlands uitgegee as Die ding in die vuur met die aardigheid dat die kortverhaal “Die ding in die vuur” in hierdie bundel ontbreek.

In ’n Huis met drie en ’n half stories staan die vrou, soos in Scheepers se vorige kortverhaalbundels, weer sentraal, skryf Marthinus Beukes in Die Volksblad (3 Julie 1995). “Die vrou proklameer in hierdie verhale haar posisie sekuur soos beliggaam op die voorblad, asook in die slotwoorde van die laaste verhaal: ‘ek stap uit. Volkome vrou.’

“Die bundeltitel het ’n duidelike tweeledige betekenis, want nie alleen bring Scheepers in haar bundel drie afdelings met verskillende gestaltes van die vrou in die verhale saam nie, maar dit dui verder op die vlakke in ’n huis (= ‘storeys’). Scheepers stel hierdeur dus duidelik dat haar huis (dus die bundel én haar liggaam) uit verskillende vlakke (dus ook dimensies) gebou is.”

Foto: Pixabay.com

Vir Beukes is daar ’n verskil in die uitbeelding van die vrou in ’n Huis met drie en ’n half stories, aangesien die vrou meer menslik verbeeld word. Sy is nie meer so aggressief teenoor die man nie en hy word ook met meer deernis geteken sonder “om deur haar pen gekastreer te word”.

Beukes beskou die verhaal “Pa” as die hoogtepunt van die bundel. In hierdie verhaal molesteer die pa die dogter, maar dit word op só ’n sensitiewe manier vertel dat “die dogter se fantasie oor haar pa ’n poëtiese kwaliteit verkry sonder om te vervreem”.

In Rapport van 11 Desember 1994 beskryf Cecile Cilliers Riana Scheepers as “by uitstek eksponent van la condition féminine”. Sy ontgin veral die vrou se seksualiteit en dít word gedoen sonder om aggressief te wees, met deernis en met realisme én humor oor die vrou.

“In ’n Huis met drie en ’n half stories dek sy ’n wye tematiese veld, kies sy én kind én volwassene tot karakter, werk sy oortuigend met die verhoudings tussen mense. Sy beweeg ook van familievertellings op die Natalse platteland tot ’n lesbiese verhaal in ’n Middeleeuse gemoderniseerde klooster tot verhale met Bybelse temas. Daar is min verhale in die bundel, nie twintig nie, en sommige van die stories is weinig meer as indrukke, sketse. Sommige verhale is ook nie goed genoeg nie, het te min om die lyf. ‘Beeste’, byvoorbeeld, en ‘Klipsop’. Ander ontgin nie die gegewe nie, soos ‘Ses’, en ‘God se bruid’.

“Maar die titelverhaal is ’n boeiende, bevredigende samevoeging van uiteenlopende elemente tot ’n gesnoerde geheel. ‘Pa’ is ’n verrassende nuwe blikhoek op kindermolestering, en ‘Elikser’ is aangrypend. Die twee Bybelse verhale, veral ‘Jefta se kind’, is die hoogtepunt van die bundel. Riana Scheepers verander wat ’n tragedie moes wees in ’n triomftog vir die vrou (let op kind, nie dogter nie, in die titel). Dis ’n erotiese verhaal waarin nie seksualiteit die belangrikste element is nie, maar vryheid, onafhanklikheid. Sy vermeng praat- en skryfstyle met groot sukses. Die bundel is yl, maar hierdie verhaal vergoed daarvoor. (...)

“Riana Scheepers het ’n besondere gawe. Selde die ervarings wat agter haar lê, en wat haar ongetwyfeld toegerus het vir haar vertellings, selde die bykans wrede wegbreek van die geykte vrou – ter wille van die finale bevryding behou sy ’n frisheid van siening en ’n helderheid van segging wat haar ’n skynbaar blywende onskuld gee. Sy skryf so natuurlik oor die allerverskriklikste dinge. Soos dit hoort.”

Riana gaan in 1992 na die Universiteit van Wroclaw in Pole, waar sy ’n lesing oor die Afrikaanse letterkunde aanbied. Met haar terugkoms in Suid-Afrika stel sy ’n reeks radiopraatjies oor haar besoek aan Pole saam wat oor die Afrikaanse sender van die SAUK uitgesaai word. In Junie 1992 woon sy die Feministiese Boekebeurs in Amsterdam by nadat sy by ’n kursus vir dosente in Nederland was.

Dit is egter in 1994 dat Riana ’n huishoudelike naam word in baie Afrikaanse en Suid-Afrikaanse huise met die verskyning van haar eerste Katriena-boek, Haai Katriena, wat vertel jy my nou! “Met Katriena se stories loop ek al lank. Elke vrou met ’n huishulp kan ten minste een storie oor haar vertel. Verlede Desembervakansie, toe tref die karakter my, en in plaas daarvan om in die wonderlike weer op die strand te gaan lê, het ek letterlik die hele vakansie geskryf,” vertel sy aan Suzette Truter (Sarie, 29 Maart 1995).

Nog twee boeke oor Katriena volg: Nou lieg jy mos, Katriena! en Katriena, néé. Die karakter Katriena word ook vir die verhoog verwerk met die aktrise June van Merch in die titelrol en word tydens die KKNK van 2000 opgevoer.

Riana Barnard skryf (Volksblad, 1 Mei 1995) dat Katriena die ou Suid-Afrika op sy kop keer: “Sy is nie meer die stemlose kombuisbediende sonder sê nie. Inteendeel; sy foun haar vriendinne, help haarself aan die blik koekies en gee soms raad en leiding vir die arme Mevrou. (...)

“Sy lewer sosiale kommentaar wat deurgaans met deernis gelaai is en sonder die skerpheid wat satire kenmerk. Daarom is Katriena ’n karakter wat heling en versoening bring vir haar lesers. Die literatuur is so dikwels ingespan as wapen in die ‘struggle’. Hoe heerlik om ’n vrolike en vermaaklike teks te vind waarin selfs resepte gebruik word om ganse gelykheid te kommunikeer: ‘’n poeding vir ’n poeding’, soos Katriena sê.”

Vir Lucas Malan (Rapport, 27 Augustus 1995) bring Katriena en Riana Scheepers saam-saam “’n lighartiger blik op ons alledaagse bestaan wat versmorend ernstig geword het”, en Maureen Joubert (Insig, September 1995) skryf: “Scheepers vat ’n bekkige char stewig vas, sonder tierlantyntjies en geheel en al geloofwaardig. Sy laat haar in lewende lywe voor die leser staan, groot en aards en vol wysheid. Van Katriena wil ons nie afskeid neem nie.”

Riana se eerste roman, Die heidendogters jubel, verskyn in 1995 en word in dieselfde jaar in Nederland gepubliseer as De heidendochters juichen.

Nadat die roman voltooi is, vertel Riana aan Suzette Truter, het sy hard aan Die heidendogters jubel gewerk. “Ek het dit letterlik drie, vier keer oorgeskryf van voor af. Dit het my drie jaar geneem. Ek het gedink dit sal maklik wees om ’n roman te skryf, maar ek het my misgis.

“Die storie gaan oor ’n jong meisie wat ingesmokkel word in ’n weermagkamp. Dit gebeur regtig. Hulle noem so iemand ’n ‘wip’ en sy kruip dae lank weg in die warm, bedompige kamer en slaap dan snags by haar kêrel.

“Ek het drie jaar navorsing gedoen. Ek was in kampe, het onder beddens ingekruip en in troepe se kaste gekyk. Ek het oorlogboeke gelees. Met só ’n roman kan jy nie verbykom met min navorsing nie.”

In Beeld van 27 Julie 1995 in haar rubriek “Op my literêre sofa” beskryf Joan Hambidge Die heidendogters jubel as ’n “literêre ramp”. Sy skryf: “Dit lees soos ’n versameling van urban legends oor die army. ’n Mens kan nie glo dat ’n skrywer wat haarself nog altyd so behendig aan die subteks bedien het, sulke platvloerse, onsubtiele en agterlike prosa kan pleeg nie. Die leser lees egter klaar, waarskynlik omdat die beginsel wat Julia Kristeva vir ons uitgespel het, the power of horrors, hier ter sprake kom.

“Die leser word in Die heidendogters jubel vasgeklem as voyeur terwyl die vertellende ekshibisionis ontslae raak van al sy lewenswyshede. Die vraag is: lees ’n mens agter die mag van die groteske/aaklige aan, of is jy as literator gedoem tot die lees van die slotakkoord? (...)

“Scheepers het nog altyd ’n welverdiende plek binne ons kortkuns gehad, maar miskien het Eduan Swanepoel gelyk gehad toe hy in die De Kat-resensie van haar laaste kortverhaalbundel gesê het dat sy eerder ’n populêre skryfster is. Kennelik het haar Haai Katriena, wat vertel jy my nou-aanslag begin afsmeer aan haar ernstige skryfwerk, want Die heidendogters jubel is ’n verleentheid vir haar oeuvre. (...)

“’n Mens gru nie omdat dit ’n grensverhaal is nie. Ook nie omdat jy met die oorlog gekonfronteer word nie. Nog minder omdat dit boerenóiens is wat katelkaperjolle uithaal. ’n Mens gru omdat elke toneel so oerbekend is.”

JC Kannemeyer (Rapport, 28 Mei 1995) was van die min kritici wat positief geskryf het oor Die heidendogters jubel. Hy het dit beskryf as ’n “briljante kort novelle, sowel wat die bou as die subtiele gebruik van die natuurlike, dikwels kru ‘army’-taal en die uitbeelding van ’n uiteindelik vreeslose vrou. Ná die reeks sekservarings met die luitenant, telkens aan die einde van ’n hoofstuk, is die lesbiese toneel hoogs funksioneel om die finale omdop van waardes en die teenstand van die hoofkarakter teen ’n ander soort varsheid te onderstreep. Dit is een van die knapste tegniese grepe wat in ons hedendaagse verhaalkuns ken.”

Riana is van mening dat dit skrywers se plig is om diegene wat nie so goed onderleg is in die letterkunde nie, meer oor hul werk te vertel. Sy verduidelik hierdie stelling aan Gawie Keyser (Die Burger, 24 Oktober 1996): “Die heidendogters jubel het in Suid-Afrika ’n verskriklike kwaai reaksie ontlok. Wanneer ek rustig met ’n leeskring gesit en gesê het waar dit vandaan kom – daar was werklik vroue wat tyd in weermagkampe deurgebring het – dan was daar ’n soort begrip vir die situasie; daar was nie dadelik afkeer nie, hulle het weer gaan lees.”

Riana besoek in 1996 Amsterdam op versoek van haar Nederlandse uitgewer, Bert Bakker, en in dieselfde week word ’n bundel kortverhale van haar wat spesiaal vir die Nederlandse mark uitgegee is, bekendgestel. Riana is in die Nederlandse mark een van die suksesvolste Afrikaanstalige skrywers. Haar werk word uiters gunstig deur Nederlandse resensente ontvang en haar suksesvolle optredes oor die Nederlandse radio en televisie gee haar die erkenning wat skrywers in hierdie kompeterende lesersmark nodig het.

Oor hierdie verbintenis met Nederland sê Riana aan Gawie Keyser (Die Burger, 24 Oktober 1996): “Ek voel emosioneel betrokke by my herkoms hier. In 1701 het my voorvader na Suid-Afrika gegaan. Ek hou van die Nederlanders en vind aansluiting by die ruimheid van gees.”

Oor kritiek dat sy dalk as Eurosentries beskou kan word, reageer Riana teenoor Keyser soos volg: “Ek is nie meer ’n Europeaan nie; ek is ’n Afrikaan. My gene ... iemand vra of ek swart bloed in my familie het. Ek sê beslis, maar ek weet nie wie nie.

“Die spanning tussen Afrika en Europa is juis een van die temas in my werk. Ek’s ’n Afrikaan en die spanning wat dit met Europa veroorsaak, is wonderlik.”

Oor die baie aandag wat sy in Nederland op daardie tystip ontvang het, het sy aan Keyser verduidelik dat sy seker is dat dit as gevolg van die tema is waaroor sy geskryf het. “In die Afrikaanse letterkunde was die swart karakter ’n karikatuur, ’n randkarakter. Ek is nie die eerste skrywer wat daaraan aandag gegee het nie, maar die politieke klimaat was reg vir swart mense as hoofkarakters in my debuutbundel.”  

Intussen werk Riana onverpoosd aan haar PhD oor Die verhouding feit:fiksie in die kortverhaalbundels van Koos Prinsloo en na drie jaar behaal sy dit in 1997 en in 1998 word haar proefskrif gepubliseer as Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes. Sy en Koos was jeugvriende.

In sy bespreking van Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes (Tafelberg, 1998) skryf LS Venter (Beeld, 7 Desember 1998) dat hierdie omvangryke studie oor Prinsloo ’n baie welkome toevoeging tot die Afrikaanse literatuurkritiek is. “Werklik indringende publikasies oor skrywers se werk en nie net oor hul lewe nie is in Afrikaans so skaars soos hoendertande. Scheepers rym in haar boek die biografie met die literêre kritiek, omdat die sentrale onderwerp daarvan die relasie tussen lewe en literatuur, werklikheid en fiksie is. Haar uitgangspunt bly egter steeds die skrywer Koos Prinsloo en nie die mens nie.”

Vir Venter is daar oorhaastige en gerieflike veralgemenings en gevolgtrekkings, maar dit is ’n werk wat baie leesbaar is en daarby ook ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse literatuur.

In Die Burger van 13 Januarie 1999 is Helize van Vuuren die resensent van Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes. “Scheepers tipeer Prinsloo se werk as postmodernisties, dikwels met ’n outobiografiese inslag sodat die grens tussen werklikheid en fiksie vervaag. (...)

“Die boek is gegrond op Scheepers se doktorale proefskrif. Ongelukkig is die spore van dié akademiese werksaamheid nie voldoende weggewerk nie. Die leser word gekonfronteer met ’n swaartillende eerste hoofstuk wat weinig verhelderend is. As hierdie wolkerige obstakel (bladsye 3–33) egter eers agtergelaat is, bied die werk ’n intensiewe speurtog deur die oeuvre van Prinsloo, wat berus op deeglike, feitelike navorsing en analise van sentrale tekste. ’n Indeks wat naslaan vergemaklik, ontbreek egter. (...)

“Scheepers se Prinsloo-studie sal sekerlik nie vir alle lesers toeganklik wees nie. Vir die literêr-geskoolde of geïnteresseerde leser en navorser is hierdie boek egter ’n onmisbare bronne-teks, al is dit jammer dat die bruikbaarheid verswak word deur die afwesigheid van ’n indeks met sleutelwoorde. Dit is nietemin ’n belangrike eerste boek-lengte ondersoek van die oeuvre van ’n merkwaardige en omstrede Afrikaanse skrywer.”

In 1998 stel Riana die kortverhaalbloemlesing Dogters van Afrika saam. Sy het net ’n naweek nodig gehad om hierdie werk saam te stel, want oor die jare is so spontaan oor die vrou, die diepste wese van die vrou, geskryf. Die verhale was dáár; die samestelling daarvan was vir haar voor die hand liggend. Die bundel word ook in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens (Rapport-Tydskrif, 18 Januarie 1998).

Riana vertel aan Stephanie Nieuwoudt dat sy nie vir skrywers wou vra om ’n storie spesifiek vir hierdie bundel te skryf nie, want dan sit sy dalk met stories wat sy nie wil opneem nie, maar verplig voel om te aanvaar. Sy het dus op ’n Vrydagmiddag deur haar kortverhaalbundels begin werk en teen Sondagaand het sy haar seleksie gedoen.

Al is die titel van die bundel Dogters van Afrika, wou sy nie net verhale van vroulike skrywers insluit nie, maar ook verhale deur manlike skrywers. “As net vroue oor vroue skryf, raak die perspektief verdraai. Ek wou ook die manlike perspektief kry,” verduidelik sy aan Nieuwoudt (Beeld, 2 Desember 1997). “Daar was reeds drie belangrike Afrikaanse versamelwerke oor vroue – Rachelle Greeff se Lyfspel, Vrouevertellers van Annemarié van Niekerk en Vrou:Mens van Corlia Fourie. Nie een van dié boeke het ’n manlike stem nie. Dogters van Afrika is die eerste vroueboek waarin die verhale van manlike skrywers ook opgeneem is.”

Sy gaan voort: “Nie een van die verhale is gekies omdat die skrywer lesbies, gestrem, manlik, vroulik, wit of swart is nie. Dit is suiwer ’n persoonlike keuse. Ek het die mooiste verhale in Afrikaans in die boek saamgevat.”

Riana verlaat Tafelberg Uitgewers in 1998. Sy is nie daar weg oor onenigheid nie. Daar was konflik, maar nie só dat sy gevoel het sy moet bedank nie. Sy het bloot te hard gewerk en het gevoel dat haar eie kreatiewe prosesse tot stilstand “geknars” het (Rapport, 16 Mei 1999).

In dieselfde tyd is sy ’n gas op die televisieprogram Maak ’n las en vertel sy ’n grappie met ’n knalwoord as treflyn. “Die wye kritiek daarop het my twee nagte se onophoudelike trane gebring” en sy is lank in die pers daaroor bygekom. Oor hierdie voorval laat Riana haar soos volg uit: “Ons het nog g’n stuk gevorder sedert die Middeleeue nie. Dis waaroor my kortverhaalbundel [Feeks] gaan: dat die feeks verdelg is omdat sy nie hul idee van ’n vrou was nie. Dit was die intensiteit van die aanval op my wat ontstellend is. Dit was die intensiteit wat veroorsaak het dat die vroue in die Middeleeue verbrand is.” (Rapport, 16 Mei 1999)

Riana sluit ’n jaar lange kontrak met die stigtersredakteur van die Christelike tydskrif Finesse, Maretha Maartens, om ’n maandelikse rubriek aan hulle te lewer. In Mei 2000 word die kontrak summier opgeskort nadat daar, volgens Finesse, klagtes van lesers was oor Riana se boeke, asook na aanleiding van ’n artikel in Rooi Rose waarin Riana sê dat sy neutraal staan teenoor Paasfees. Finesse beweer dat Riana nie ’n Christen is nie. Maretha Maartens het intussen uitgetree as redakteur van die tydskrif en Coenie Schoeman word die uitgewer.

Riana was baie verbaas oor hierdie besluit van die uitgewers, want sy het goeie reaksie van die lesers op haar rubriek gehad. In ’n brief aan Vanessa Schoeman, die assistentredakteur, skryf sy: “Ek het nog nooit met my Christenskap te koop geloop nie, omdat ek weet dat ek feilbaar is (...) Liefdeloosheid en morele veroordeling is steeds met ons, veral uit die geledere van die Groot Christene wat (skynbaar) self sondeloos is en daarom só maklik die oordeel oor ander kan vel” (Volksblad, 8 Junie 2000).

In 1999 verskyn Riana se volgende kortverhaalbundel onder die titel Feeks. Mabel Erasmus (Volksblad, 24 Januarie, 2000) skryf dat dit ’n boek is wat menswees in Suid-Afrika in daardie tyd wil besweer, maar ook bevestig en vier.

“Daarom wil ek dit by lesers aanbeveel as ’n talisman vir die toekoms wat vir baie van ons die gevoel van verswelging gee. (...)

“Die woordeboekbetekenis vir feeks, naamlik, ‘bitsige, nydige vroumens – kwaadwillige hellefeeks’, mag misleidend wees; dit sou die indruk kon wek dat die boek ’n uitdagende of sogenaamde ‘feministiese’ teks is waaraan sekere mense ’n broertjie dood het. Die boek as somtotaal omvat egter veel meer as verhale oor karakters wat aan hierdie beskrywing voldoen; dit is ’n inklusiewe, genuanseerde bundel en daarom behoort die titel liefs gelees te word as meerduidige samestelling van fee (’n vrou wat haar toorkrag positief inspan) en heks (’n vrou wat toorkuns beoefen, meestal tot nadeel van die medemens – aldus die woordeboek).

“Die twee magiese elemente word subtiel vermeng; byna elke verhaal spoel iewers oor die grense van die rasioneel-ervaarbare werklikheid en versterk sodoende die betowering van Scheepers se voortreflike woordkuns. (...)

Feeks bevat die gesamentlike betowering en towerkrag van die knap literêre teks. Laat ons maar katvoet loop vir die hiperpragmatisme (ook in akademiese kringe) wat letterkunde se rol en waarde geringskat. (...) Vir my straal die boek in geheel medelye, moed, hoop en troos uit – kwaliteite waarsonder niemand die nuwe eeu kan aandurf nie.”

Ook Gretel Wybenga is positief oor Feeks (Rapport, 23 Januarie 2000). Ook hier is die vrou die sentrale tema, soos in Scheepers se vorige bundels, maar in hierdie verhale is daar sprake van “ander verborge, en soms donker, kragte met sy oorsprong in ’n diepgewortelde oerkennis wat die rasionele voorafgaan”.

Wybenga gaan voort: “In die woord ‘feeks’ manifesteer die betekenis van sowel helleveeg as heks, wat hier nie noodwendig sinonieme is nie. Reeds vanaf die eerste verhaal, in die magiese teenwoordigheid van ’n inheemse oorbel wat ook op die voorblad pryk, word die heks verbind aan die Afrika-gegewe. Om dié rede moet die heks, soos in Westerse kulture, nie net in die bose sin van die woord begryp word nie, maar die heks is ook medisynevrou, sjamaan, en die gewer van goeie dinge. (...)

“’n Verblydende aspek van hierdie bundel is dat Scheepers haar nou uitgebreid en oortuigend begeef op die terrein van die magiese, wat wel ’n waagstuk kan wees as die outeur nie daarvoor toegerus is nie. Dié tendens is ook toenemend opvallend, onder andere in die werke van André Brink. Miskien is ons verwaterde Westerlinge nou eers, hier teen die eeuwisseling, in staat om die ware stem van Afrika te hoor.

“Hierdie sterk bundel se stramien is somber en die spontane speelsheid en byna improvisatoriese indruk van die tipiese Scheepers-verhaal minder opvallend. Die somberheid word ook uitgesê met die oorwegend donker en treffende voorblad, en die swart titelblad, en selfs met die onvrolike foto van Scheepers (koponderstebo!) op die agterblad.”

Riana se eerste digbundel, Met die taal van karmosyn, verskyn in 2001. “Dis ’n viering van die liefde en die feit dat my taal aan my teruggegee is. In die agt jaar wat ek in ’n verhouding met ’n digter was, het ek my doelbewus daarvan weerhou om in die artistieke ruimte waarin hy beweeg het, in te gaan. Die einde van die verhouding was traumaties, maar dit was ook ’n skeppende bevryding.” Dit is ’n nuwe liefde wat haar taal vir haar teruggegee het: “Die man is nie ’n letterkundige nie, maar hy praat die mooiste, ongebreidelde Afrikaans,” vertel Riana aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 22 September 2001).

Die meeste van die gedigte in Met die taal van karmosyn is vir die nuwe geliefde geskryf. En, vertel Riana verder aan Nieuwoudt, die titel is gekies om by die baie passievolle toon van die gedigte te pas. Op die voorblad is ’n foto van die skrywer met die mond wat baie prominent vertoon. “Die prominente mond is vir my beduidend van die sensuele en die taal wat ek teruggekry het. Die bundel is uiteraard meer intiem as my ander werk. Met poësie speel jy nie speletjies nie. Dis die rouste en eerlikste vorm van literatuur.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 2 Oktober 2001) is Met die taal van karmosyn as debuut nie treffend nie. Maar daar is ’n handvol gedigte wat “onthoubaar is tussen verse wat nog gewoon indrukke is (en waarskynlik te na aan die digter of die ervaring staan)”.

Vir Hambidge is die verse wat die beste is, dié wat agter die “woord-net” gebeur, maar haar gevolgtrekking is dat Scheepers eerder ’n kortverhaalskrywer as digter is.

TT Cloete skryf in Rapport (4 November 2001) dat die hoofindruk wat die bundel by die leser laat, die taal van karmosyn of van erotiek is. Maar dit beteken nie dat hierdie gedigte die beste groep verse in die bundel is nie. “Inteendeel. Die erotiese gedigte laat hulle te swaar geld en soms te egosentries, en te veel in die trant van dergelike gedigte van enkele ander digters van die jongste tyd. (...)

“Daar is ook gedigte van ’n heeltemal ander aard in hierdie afdeling, soos ‘Sappho was verkéérd’ of ‘Swartland: wintermiddag’ met sy skerp teenstellings. Dit is verse wat verskil van die meeste gedigte in hierdie afdeling, omdat dit nie van vervulling alleen praat nie maar van verydeling, van pyn wat met die liefde gepaardgaan en wat ’n meer verwikkelde karakter daaraan gee. ’n Veelkantigheid wat nietemin in heel eenvoudige taal verwoord is. (...)

“Party van die liriese gedigte praat onmiddellik met jou, maar hulle, soos ander wat ’n mens direk aanspreek en eerder bloot beskrywend is, verloop ongelukkig dof, en meestal hang dit saam met die oormaat kort, saaklike en onortodokse verse wat min ritmiese moontlikhede skep. (...)

“Die reisgedigte staan miskien nie verniet aan die slot van die bundel nie en is gedigte wat dalk moontlikhede inhou vir toekomstige ontwikkeling.”

Riana Scheepers se eerste jeugboek, Die blinde sambok, word ook in 2001 gepubliseer en ontvang in 2003 die ATKV-Kinderboekprys vir die ouderdomsgroep 10 tot 12 jaar. Hierdie toekenning is baie spesiaal vir Riana omdat dit die kinders self is wat die keuse maak. Leon de Villiers, ’n jeugboekskrywer, se reaksie op die prys is dat die kinders vere voel vir die skrywer, maar mal is oor die storie, en Riana stem volmondig met hom saam. Die Nederlandse vertaling van Die blinde sambok getiteld Scorpioenkind was op die kortlys van die Vlaamse Kinderjurieprys (Taalgenoot, Mei 2003).

Die blinde sambok het as hoofkarakter ’n meisiekind met ’n seunsnaam, Gideonette, wat ’n regte rabbedoe is. Die hele familie het gehoop dat sy ’n seun sou wees wat die familienaam kon voortdra. Toe sy gebore is, was haar pa baie teleurgesteld – nie net omdat sy ’n dogter was nie, maar ook twee maande te vroeg gebore is en baie swak was. Maar niemand het besef dat die kleine meisiekind ’n wil van haar eie het en dat sy besluit het sy gáán lewe nie. Sy kry ’n beste vriend, Bhubesi, op die plaas en saam beleef hulle baie avonture.

Wat Gideonette egter nie geweet het nie, is dat daar ’n “vloek” op die familienaam Gideon rus – almal wat dié naam het, gaan in fratsongelukke dood . Maar, vertel Riana aan Dawid de Bruyn (Rapport, 6 Mei 2001), Gideonette oorleef omdat sy ’n onblusbare drang het om te leef. “Uiteraard is dit ’n fiktiewe verhaal, maar die insidente wat beskryf word, is outobiografies. Ek was ’n onhebbelike kind. En my pa is ook dood toe ek ses was.”

Riana het baie geïrriteerd geraak oor die jeugboeke wat altyd een of ander sosiale probleem aanpak, sê sy aan Stephanie Nieuwoudt in ’n onderhoud. “Daar is altyd alkohol- of dwelmmisbruik of ma wat vir pa slaan. Ek wou ’n outydse jeugverhaal skryf met outydse Trompie-rige pret. Ek het nie probeer om ’n politieke stelling te maak nie, maar die Bhubesi in die boek het wel bestaan. Hy was my pêl op my oupa se plaas.”

In 2017 het Hanneke Schutte Die blinde sambok verwerk tot ’n film getiteld Meerkat Maantuig. Dit was een van die prente wat in 2017 meegeding het in die Silwerskermfees se kompetisie en het weggestap met die prys vir die beste kinematografie. Anchen du Plessis het die rol van Gideonette vertolk en Schutte was die regisseur.

Die film is ook oorsee bekroon, met die volgende pryse:

  • Wenner van die FIPRESCI Critics Prize by die Schlingel Filmfees in Duitsland 
  • Wenner van Best International Feature by die Schlingel Filmfees in Duitsland 
  • Wenner van die Festival Honors Award for Outstanding Achievement in Filmmaking  Feature Film, Newport Beach Filmfees in Amerika 
  • Wenner as die beste film vir kinders en die jeug, Spirit of Fire Film Festival, Siberië  
  • Wenner Beste Kinematografie, SAFTA (South African Film and Television Awards)

In 2006 word Die avonture van Wilde Willemientjie gepubliseer en word dit verwerk vir die teater. Dit word in 2006 by die KKNK onder regie van Niel Rademan opgevoer en ontvang die Kanna vir die Beste Kinderteater. Sy skryf vir kinders, want “ek wil vir ’n slim kindjie met al die wysheid van die hemel in sy oë wonderlike stories lees van goeters wat gril, spoke wat in bome swaai, seerowers wat in die wingerd sit, geeste in klippe met ’n sagte stem wat nét ’n kind kan hoor.”

Wilde Willemientjie se avonture het nie net by een boek en een opvoering gebly nie. Ander titels is Wilde Willemientjie, ’n walvis, ’n seerower en die maan (2007) en Die verdere avonture van Wilde Willemientjie (2009). In 2007 het Wilde Willemientjie ook ’n draai by die Volksblad-kunstefees gemaak saam met die walvis, die seerower en die maan.

Scheepers is ook die skepper van Arboreta, die heks met die groen hare, ’n baie wyse en vriendelike heks wat vir die bome in haar woud sorg.

“Sy het ’n talent om haar te kamoefleer, en sy besit ook sekere toorkragte, wat slim aangewend word teen diegene – stoute kinders, gewoonlik – wat haar woud wil verniel. Die gawe groen heks is egter bekommerd, want sy is al baie oud en wie gaan na die woud omsien wanneer sy nie meer daar is nie?” skryf Jeanne Calitz in Die Burger (26 Junie 2008).

Calitz beskryf die storie as pragtig en dromerig en een wat in die smaak van ses- en tienjariges sal val: “Ook volwassenes sal egter iets waardevols in die verhaal kan vind, al is dit bloot om vir ’n wyle te ontsnap in ’n vriendelike groen wêreld. Eenvoudig maar ráák in haar beskrywings, het ek later kompleet begin voel (of is dit wens?) ek kan daardie sagte, suisende woudgeluide hoor.

“’n Mens het veral ook waardering vir die feit dat Scheepers daarin slaag om ’n boodskap oor omgewingsbewaring oor te dra sonder om een oomblik prekerig te klink. (...) Ons jongklomp moet leer om respek te hê vir die aarde en sy mooie wonders, veral in hierdie tye van snelle stedelike groei, besoedeling en aardverwarming. En Arboreta is die perfekte onderwyseres.”

In September 2002 trou Riana met Johann Loubser en hulle gaan bly op De Compagnie net anderkant Wellington in die holte van die Wamakersvallei. Op hierdie plaas doen vroue hul dinge. Riana is plaasbestuurder, bemarker, asook inslapende digter. Sy werk saam met die vroue in die wingerd. Sy doen dit “omdat iets gebeur het wat ek aan niemand kan verduidelik nie. Ek word deel van die beskeie mag van vroue wat die nederigste werk op aarde doen. Hulle dink nie meer dis snaaks, dié mevrou wat saam met hulle inval nie, hulle bly nie meer stil as ek nader kom nie. Ek hoor van hul huise, hul kinders, wie de afgelope naweek vir wié geskel het, wie se man ’n vuilis is, en wie se kinders gruwelik is” (Rooi Rose, Augustus 2003).

Haar passie vir Afrikaans tree ook hier na vore toe hulle op die wynetikette vir hulle wyn moes besluit. Hierdie etikette word oorwegend in Afrikaans gedruk.

Riana is, benewens haar gewone skryfskole, ook nóú betrokke by geletterdheidsklasse vir volwassenes in die plaasgemeenskap. Sy bied ook ’n kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke op De Compagnie aan.

In 2003 word drie van haar boeke by die Antwerpse Boekebeurs bekendgestel: die Nederlandse vertaling van haar digbundel, asook die vertaling van Die blinde sambok en Verstaan my verlangste, ’n bloemlesing van Afrikaanse liefdesgedigte. Sy en die Vlaamse letterkundige Jooris van Hulle stel die bundel saam. Die gedigte is in Afrikaans met Nederlandse verklarende aantekeninge.

De Compagnie se huidige plaasbestuurder, Mattewis Thabo, se vrou Nicci is ’n opgeleide kleuterskoolonderwyseres. Sy help die kinders op die plaas na skool met lees- en skryfwerk. Riana vra haar om stories vir die kinders te skryf. So skryf Nicci in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfwedstryd en word die eerste prys aan haar toegeken.

In 2005, met die viering van De Compagnie se driehonderdjarige bestaan, skryf Riana ’n kortverhaalwedstryd uit en word die beste inskrywings deur haar en Nicci gebundel in Die melkweg het ’n ster laat val (2006). Vir die bloemlesing ontvang hulle ’n prys van die Departement van Landbou wat erkenning gee aan die kulturele baanbrekerswerk wat hulle onder plaaswerkers doen. Riana ontvang ook in 2006 die Patrick Petersen-gedenkprys vir haar opheffingswerk onder plaaswerkers en haar bemagtiging van vroue.

In 2006 vereer die Rapportryers Riana met ’n erepenning vir haar rol in die uitbou van Afrikaans en die visie van die Rapportryersbeweging.

Sy is ook ’n baie gewilde rubriekskrywer wat gereeld vir Die BurgerVolksblad en Beeld bydraes gelewer het. Hierdie bydraes is in 2003 en 2005 gebundel in onderskeidelik My voete loop na Wellington en ’n Engel in my huis.

Oor My voete loop na Wellington skryf Cecile Cilliers (Die Burger, 6 September 2003) dat hierdie bundel rubrieke meestal met die skrywer self te make het. En dit kan, volgens Cilliers, problematies wees, aangesien die skrywer makliker belangriker as sy stof raak en dit tot “selfbeheptheid en selfkoestering” kan lei, wat ongelukkig in hierdie bundel te bespeur is.

Maar gelukkig, skryf Cilliers, is daar drie eienskappe waaroor Riana beskik wat hierdie bundel red: haar sin vir humor, haar vermoë om ’n storie te herken én dit te vertel en haar taalgebruik. “Afrikaans blom uit Scheepers se pen.”

Oor haar volgende versameling rubrieke, ’n Engel in my huis, vertel Riana onder meer van haar vissershuisie aan die Weskus, asook van haar huis op die wingerdplaas. Maar daar is ook ander huise ter sprake, sowel as sketse oor plekke in Suid-Afrika en oorsee waarheen sy gereis het.

In Literator (Augustus 2006) skryf SF Greyling dat al die bydraes nie op dieselfde standaard is nie, maar dat dit te verwagte is in ’n versameling van hierdie aard.

“Bydraes soos ‘Mathilda se storie’ (p 12) laat ’n afgeronde en universele indruk. Ander bydraes is veel persoonliker en kom soms sentimenteel oor. Lesers verskil egter en elkeen sal waarskynlik ’n gunsteling in die bundel hê. (...) Die vertellings is kort, wat dit ideale leesstof maak wanneer ’n mens net ’n paar minute beskikbaar het. Dit is waarskynlik hoe dit gelees moet word – so proe-proe en een of twee op ’n slag. Elke vertelling bied die leser veel om te geniet, om oor na te dink, en met ’n vars blik na die wêreld te laat kyk.”

In 2009, so tussen al die rubrieke, kinder- en jeugverhale en poësie, verskyn Riana se volgende kortverhaalbundel, getiteld Katvoet, haar eerste bundel in tien jaar.

Sy verduidelik aan Elise Tempelhoff (Beeld, 30 September 2009) dat Katvoet groen is: “Katvoet is omgewingsbewus in die sin dat die karakters in die sleutelverhale leer om meer aards, meer primordiaal, maar natuurlik, maar intuïtief te leef.

“My bewustheid van die omgewing kom van kleintyd af. Ek het op ’n plaas grootgeword en was nog altyd omgewingsbewus – in dié sin dat ek nog altyd na aan die natuur wou woon. Sedert ek in die Wamakersvallei woon, het dit méér geword, het ek dit reggekry om te doen wat ek wil – om meer ekologies bewus te wees.

“Ons het te veel goed, gaar te veel op, kry te veel Kerspresente, leef te oordadig. Ek kan presies dieselfde luukshede om my hê met veel minder besittings. Ek glo dat ons almal uit die natuur moet haal wat jy nodig het, maar niks oorbodigs moet wegvat nie. Ons koolstofvoetspoor is te groot. Die kultuur om te stroop – meer te vat as wat nodig is – is al eeue lank met ons. Ek wil graag hê ons geslag moet leer om minder te mors en meer bedagsaam te wees jeens die natuur.”

Die vrou in die titelverhaal in Katvoet leer om instinktief soos ’n kat te leef, in die nag, omdat sy besef dat dit geestelik goed vir haar is. “Sy leer om meer op haar sintuie, en veral haar sesde sintuig, aanspraak te maak. Sy leer die natuur ken terwyl die natuur sy geheime en wonderwerke vir haar oopmaak.”

Riana vertel aan Tempelhoff dat die natuur en die bewustheid van die natuur ook in die ander verhale belangrik is: “Dit gaan veral oor die eenwording van die karakters met die natuur en die mens in simbiose met die natuur.”

In haar resensie (Beeld, 16 November 2009) skryf Susanne Harper dat katte ’n belangrike rol speel in Katvoet. “Volgens die skrywer self in ’n radio-onderhoud gaan dit hier oor katte, hetsy dit nou ’n luiperd, huiskatte of skuurkatte is. (...) ’n Pragtige stuk is die titelverhaal waar die vrou vergelyk word met ’n kat waarvan die sintuie in die nag verskerp. Maar ’n kat is altyd ’n slim, maar ook ’n slu dier.

“Volgens Scheepers moet die skrywer ook dikwels slim en slu wees. Volgens haar, in ’n ander onderhoud, bewonder sy die kombinasie van intelligensie en sluheid wat ’n kat het en sien sy dit as ’n verbysterende eienskap wat elke skrywer moet hê.

“Hiermee saam gaan die tema van die bonatuurlike, reïnkarnasie en die wonderwerke. Die kortverhale in hierdie volwasse bundel toon die ligte, elegante en sinistere aanslag van die kat. (...)

“Die bundel is ook vernuwend en eksperimenteel. Eienaardig en eksperimenteel is die gebruik van kleinletters aan die begin van ’n verhaal en ’n titel van ’n verhaal wat oorloop in die eerste sin. Sinne sonder werkwoorde is volop, so ook die opeenstapeling van gegewens waar dit funksioneel aangewend word. Die magiese, die onmoontlike en surrealistiese elemente kom in verskeie verhale voor (...). Sulke toweragtige, soms surrealistiese momente, kom dikwels verfrissend teen die slot van ’n verhaal voor.”

Saam met Ampie Coetzee beskou Harper hierdie bundel as Riana Scheepers se beste tot op daardie stadium.

Hierna begewe Riana haar op ’n heel ander gebied toe sy besluit om DJ Opperman se destydse Kleuterverseboek wat in 1957 op die rakke verskyn het, in ’n nuwe gedaante aan Afrikaanse kinders bekend te stel.

Sy vertel aan Izelle Venter in Huisgenoot (11 Junie 2009) dat sy stomverbaas was toe sy besef hoe oud Kleuterverseboek is. “Dis dan amper so oud soos ek! Dit bly ’n wonderlike boek, maar dit was tyd vir iets nuuts ook.”

Sy het toe vir Suzette Kotzé-Myburgh, ’n baie ervare boekredakteur, gevra om te help en só is dié “moet-hê-boek” gebore. Riana se hooftaak was om bydraes in te samel en saam met Suzette die keuring te doen, terwyl Suzette verantwoordelik was vir die redigering.

In die nuwe bundel, met die titel Nuwe kinderverseboek, is byna 300 nuwe kinderverse in Afrikaans opgeneem. Heelwat van die 113 digters wat bydraes gelewer het, het nog nooit met rym of ritme te doen gehad nie, en rym en ritme is juis van die vereistes wat nie net aan kleuterpoësie gestel word nie, maar ook aan verse vir volwassenes – “die ritme, metrum en rym moet perfek wees. Dis glad nie maklik nie,” vertel Suzette.

Onder die debuutdigters is daar ’n ingenieur, huiswerker, finansiële joernalis en heelparty mammas en pappas en ook oupas en oumas. Die jongste digter was maar tien jaar oud toe sy gedig gekies is. En Hennie Aucamp het vir die eerste keer vir kinders gedig, wat vir hom ’n heel nuwe ervaring was. Vir Suzette was die redigering wat sy vir Nuwe kinderverseboek gedoen het, baie moeilik.

Die verse is volgens ouderdom in drie afdelings ingedeel (2 tot 4, 5 tot 7, 8 tot 10) met elke afdeling wat sy eie illustreerder gehad het, wat bygedra het tot die plesier wat die verseboek sal gee aan almal wat dit gaan lees.

Riana en Suzette sê vir hulle is die belangrikste element van hierdie boek dat dit pret moet wees om dit te lees. “En die pret is nie net tot kinders beperk nie, maar selfs ernstige grootmense sal dit geniet.”

André P Brink (Beeld, 4 Mei 2009) beskryf Nuwe kinderverseboek as “genoeglik” met “oorspronklike, verfrissende en fleurige illustrasies wat uitmuntend aanpas by die belangstellings en verbeeldingswêreld van kinders in ’n bepaalde ouderdomsgroep. In ’n werk van dié aard is illustrasies van byna ewe veel belang as teks en ek moet eerlik sê die NKV is kort en klaar een van die mooiste kinderboeke wat ek nog in Afrikaans gesien het.”

Ná bogenoemde twee versamelbundels van haar rubrieke, versamel Adriaan Meyer, Riana se jongste seun, van haar kortverhale wat in haar vorige vyf bundels opgeneem is. Sy vertel aan Solette Stander (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012) dat hierdie bundel, getiteld Die vrou in die vuur, haar oeuvre verteenwoordig.

“’n Versamelbundel gee lesers ’n goeie idee van hoe ’n mens as skrywer ontwikkel en gegroei het deur die jare. Toe ek nou agterna vir elke kortverhaalbundel ’n inleiding moes skryf, het ek self ook ’n goeie blik op my werk gekry en kon ek duidelik sien wat die invloede op my werk was.”

Met die publikasie van die biografie Purper en kaneel, komyn en smarag: die kleurvolle lewe van Hannetjie de Clerq lewer Riana weer eens bewys van haar veelsydigheid as skrywer. Oor hoe dit gebeur het dat sy spesifiek hierdie skilder se biografie geskryf het, vertel Riana aan Laetitia Pople (Die Burger, 17 Oktober 2012) dat sy die eerste maal van De Clerq se werk bewus geword het in die 1980’s toe sy skilderye van haar op die destydse Bloemfonteinse kunsmark gesien het. Veral een het tot haar gespreek, maar sy het as student nie die R40 gehad om dit te koop nie.

De Clerq het gesien sy stel baie belang in die werk, en vir Riana gesê sy kan dit neem en haar afbetaal wanneer sy die geld het. En só het hulle vriendskap begin.

Riana vertel self verder: “’n Jaar of wat voor Hannetjie se 50ste verjaardag het sy my gevra om haar lewensverhaal te skryf. Nie ’n biografie as sodanig nie, maar ’n bestekopname van haar lewe in samehang met haar ontwikkeling as kunstenaar. Sy wou nie hê dat dit nóg ’n kunsboek moes wees wat swaarwigtig, vol akademiese uitsprake en totaal onleesbaar is nie.

“Sy wou hê dat ek as woordkunstenaar die belangrikste momente in haar lewe as kortverhale skryf. Die teksgedeeltes is in die derde persoon geskryf en handel oor ‘die kind’, ‘die meisie’, ‘die student’, ‘die vrou’ en ‘die kunstenaar’. Die boek is oor ’n tydperk van twee jaar geskryf oor vele potte tee en glase wyn.

“Ek en Hannetjie het feitlik weekliks ’n afspraak gehad – óf ek was by haar in haar soel tuin, óf sy by my op die plaas. Sy het my broksgewys haar lewe vertel – en hoe meer sy vertel het, hoe meer dinge het sy natuurlik onthou, dus was dit nie ’n lineêre gesprek wat ’n netjiese begin tot einde gehad het nie.”

Daar was sekere oomblikke in haar lewe wat Hannetjie self beskryf het en vir Riana skryf sy “hierdie ongelooflik beeldryke sinne, net so mooi en evokatief soos haar skilderye. Ek het besluit dat dit my verhale moet begelei – vandaar die teks in die eerstepersoonsperspektief.

Purper en kaneel, komyn en smarag is ’n titel wat vertel van haar kleurryke lewe, ’n lewe wat nie net kleur is nie, maar ook geur en tekstuur en wysheid – en diepte.”

Tanya O’Connor skryf in Rapport Boeke (4 November 2012): “Purper en kaneel, komyn en smarag is die lewensreis van ’n vrou wat haar lewe gelééf het, eerlik soos haar kunswerke, maar dis ook die verhaal van die vriendskap tussen twee siele wat met ’n enkele kyk met mekaar gesels. Dit is wat my sal bybly: Die besondere band tussen kunstenaar en skrywer, iets wat ek keer op keer vind op die blaaie van dié boek.”                

Riana skryf vanaf twee-uur in die nag tot so vyf-, sesuur, wanneer die donker ure van die nag aan haar behoort. “Dit is die magiese uur waarin ’n mens weerloos, hipersensitief en vatbaar vir die bonatuurlike is.” Dit help ook dat sy die mooiste studeerkamer in die wêreld het – die ou kombuis van ’n huis waar die vuur in die vuurherd in die winter nooit ophou brand nie.

Adriaan, Riana se jongste seun, volg beslis in sy ma se gewilde voetspore. Hy is ’n dramaskrywer en sy drama oor Koos Prinsloo, Prinsloo Versus, word in 2004 tydens die KKNK bekroon met die Jong Kanna vir Beste Studenteteater.

Oor dinge wat haar ontroer sê Riana aan Solette Stander (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012) dat daar verskeie dinge is waarin sy geïnteresseerd is en wat haar aanraak – “soos die geweldige impak van kinderpoësie op gestremde en nie-gestremde kinders, en so ook die energie van opkomende kunstenaars. Dit is vir my wonderlik om met nuweling-skrywers te werk, want hoe meer energie ’n mens uitdeel, hoe meer ontvang jy ook.

“Die simbiose tussen die natuur en die mens se geesteslewe interesseer my ook. Daarom skryf ek graag oor die heks-figuur – oor vroue wat uitgestoot word omdat geglo word hulle is boos. In werklikheid was baie van die vroue wat deur die samelewing as hekse uitgekryt was, bloot vroue wat ’n besondere aanvoeling vir die natuur gehad het.”

In 2013 brei Riana haar oeuvre verder uit met die publikasie van haar eerste kookboek, Vallei van melk en heuning. Die bestanddele van die resepte kom uit haar plaastuin op De Compagnie, en die vleis van hulle plaas Klipkraal in die Tankwa-Karoo. Die resepte is goed wat sy elke dag op die plaas maak met niks aanstellerigs of volksvreemd nie, vertel sy aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 14 Februarie 2014). “Ek is nie ’n sjef nie en my boek het eerder die weelderigheid van eenvoud as boodskap.”

Haar uitgewer by LAPA, wat Vallei uitgegee het, vertel aan Roberts: “Vallei van melk en heuning word opgedeel in seisoene en die produk wat op daardie tydstip op die plaas en uit die omgewing beskikbaar is. Dit sluit ’n wye verskeidenheid van resepte in: van geurige elke-dag-kos, tot uithalergebak om enige gas te beïndruk. Maar altyd toeganklik, eerlik en onpretensieus. Tussen die resepte deur vertel Riana stories, en maak dit meer as net ’n resepteboek, inderwaarheid ’n inspirerende lekkerleesboek wat jy nie net in die kombuis gaan lees nie.”

Riana vertel aan die kookboekversamelaar en huiskok Errieda du Toit (Boeke-Rapport, 2 Februarie 2014) dat die skryf van hierdie kookboek vir haar die hardste werk was wat sy nog ooit gedoen het: “Behalwe dat alles perfek moes wees en elke resep getoets (en getoets en getoets) moes word, was die stilering en fotografie daarvan ’n tydsame maar wonderlike proses. Maar die skryfproses van kookboek en literêre teks is eintlik presies dieselfde: Ek het maar net die verhale geskryf waarvan die hoofbestanddeel die produkte van my plaas is” (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012).

In 2017 verskyn Riana se tweede kookboek onder die titel Smeul: drie vroue, een kombuis. Hierdie een skryf sy saam met Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz. Op Maroela Media skryf Louise Viljoen dat die resepte in vier afdelings ingedeel is, naamlik Weergalose Weskus; Karooland, hartland; Diep, diep in die donker woud; en Sprokie vir ’n stadskind. Die resepte is op die regterkant van die bladsye gedruk met volkleurfoto’s aan die linkerkant.

Viljoen vertel dat sy die boek van die rak afgehaal het net om na iets te soek en twee uur later het sy nog daar gestaan: “Die pragfoto’s is verleidelik en maak jou honger én lus. Die groot verskeidenheid resepte van oor die aardbol smeek om beproef te word. Dis egter die teks wat in sprankelende harts-Afrikaans geskryf is deur vroue wat kán, wat soos ’n sagte karos oor my skouer kom lê het en ek het my skaamteloos verlustig aan hulle geselsies en vertellings oor kos.”

Riana se volgende roman, Stormkind, word in 2018 deur Tafelberg gepubliseer. In Stormkind leer ons vir Jana ken. Toe sy drie jaar oud was, het haar ma tydens ’n kuier in Ierland spoorloos verdwyn. Op sy plaas Stormkloof in die Boland treur haar pa, Kleinstorm, na ’n paar jaar nog altyd oor sy vrou wat so mooi fluitmusiek kon maak.

Vir Jana is die gemis na haar ma net so erg. In die nag volg sy die geroep van die wind na buite. Sy vrees nie die storm nie, want die geluid wat die wind maak laat haar dink aan die klanke wat haar ma uit haar fluit kon optower.

!X’uri word deel van Jana se lewe toe die tyd kom om haar ma te gaan soek. “!X’uri en Jana ontdek die veld deur die vyf sintuie en voltrek haar omskakeling na natuurkind met ’n klein Boesman-ritueel, waar die eerste lit van die pinkie afgekap word. !X’uri verduidelik vir Jana dat Boesman-babas op ’n jaar hul pinkielit opoffer sodat die kind nie doodgaan nie,” skryf Maryke Roberts in Vrouekeur van 15 Junie 2018.

Riana vertel aan Roberts dat die Boesmans, anders as ons, meer sensueel na die aarde kyk: “Met die afkap van haar pinkie se lit, word StormJana volledig ’n kind van die aarde.

Stormkind is die verhaal van twee dogtertjies wat dalk nie eens regtig bestaan nie. Ek het as kind ’n verbeeldingsmaatjie gehad. Jana is ’n wit dogtertjie met ’n bos rooi hare en ’n groot hartseer. Toe gee ek vir haar ’n Boesmandogtertjie as begeleiertjie. Ek hou van karakters wat vyf jaar oud is; hulle het nog nie binnestrukture nie.”

Dat sy hierdie spesifieke storie moes skryf, het met ’n draai by Riana uitgekom. Maryke Roberts skryf dat Riana eendag onder ’n “reuse-verknotte wilde olienhoutboom in die Wamakersvallei se skadu” gestaan het, toe iemand haar vertel dat dit is waar die jagters destyds vergader het, voor hulle op hul jagtogte om Boesmans te jag, vertrek het.

“Ek was geskok,” vertel Riana aan Roberts, “veral toe ek raaklees dat die laaste permit om Boesmans te jag, in 1924 uitgereik is. ’n Permit was tien sjielings per Boesman. Ons het almal ’n generiese kennis van die Boesmans, maar geen diepliggende verstaan nie. Kuns word nooit uit flou emosies gebore nie. Met Stormkind was dit die emosies van woede en afgryse en droefnis wat my beetgepak het toe ek meer van die Boesmans se geskiedenis te wete gekom het. Ek kan nie regmaak wat in die verlede gebeur het nie, maar ek kan – as kunstenaar – op ’n baie nederige manier iets van hierdie merkwaardige volk se kultuur probeer terugroep.

“Ek weet dit is gevaarlik in ons politieke bedeling om oor ander mense te skryf, maar ek wou nie oor my huidige realiteit – ’n vrou in haar vroeë sestigs – skryf nie. Ek wou ook nie oor die Boesmans skryf nie, maar ek wou hulle terugbring dat ons daaroor kan gesels. Toe skep ek ’n sprokieskarakter, ’n vyfjarige rooikopdogtertjie, want ek is gefassineer deur die psige van ’n kind.

“Ek het met verskeie nasate van die Boesmans gesels en eerstens by hulle uitgeklaar of hulle Khoi of San genoem wou wees. ‘Ons is Boesmans,’ was hul antwoord, daarom my keuse van woord.”

Riana het al ander boeke geskryf waarin die kultuur van Afrika as teenpool gesien kan word vir die Westerse kultuur, en hieroor vertel sy verder aan Maryke Roberts: “Die feit dat ons in ’n land met verskillende volke en kultuurgroepe woon, is vir my as skrywer ’n onmeetlike bron van inspirasie. Ja, natuurlik bring hierdie situasie konflik mee, maar geen groot kuns word uit oppervlakkighede (of flou emosies!) gebore nie. Kuns word uit spanning gebore.”

Sy het nie aanvanklik gedink dat daar in Stormkind verskillende kulture teen mekaar afgespeel word nie, maar dit het maar net so ontwikkel. “’n Resensent het onlangs die opmerking gemaak dat ek stemlose mense, randfigure, stem gee. Ek beskou dit as ’n enorme kompliment, maar ek beplan dit nie so nie.

“Dit is net asof hierdie stemlose karakters hulself in my lewe aanmeld. Met Stormkind wou ek magiese energie in ’n eenvoudige storie saambring, want ek was tegelykertyd gefassineerd met baie dinge: magiese realisme, natuurkragte, die geheimlewe van kinders, vergifnis – en dit alles in die styl van die sprokieverteller.”

Sedert sy en Jana en !X’uri so verbind geraak het aan mekaar, kyk Riana met ander oë na die veld. “Ek kyk fyner, ek luister meer bedag, ek leef versigtiger. Ek het 12 jaar lank aan hierdie boek geskryf – ’n leser het gesê dit is ’n hele skoolloopbaan. Ja, dit is, en ek het dalk meer in dié tyd as op skool geleer.”

Oor Stormkind skryf Francois Bekker in Beeld (12 Maart 2018): “Riana Scheepers is een van ons veelsydigste skrywers. Hierdie resensent assosieer Scheepers graag met ’n letterkunde wat vergete en selfs verstote Suid-Afrikaners met haar skryfwerk wil terugskryf sodat ons hulle nie slegs onthou nie, maar erken as deel van ons land en sy geskiedenis.

Stormkind is tegelykertyd ’n magiese raaisel-en-plaasroman wat boei en betower. Getrou aan die tradisie van die plaasroman wek die roman ’n gevoel van nostalgie by die leser. Dis ’n milieu waar familietradisie, aardsheid en die diep menslike by mekaar aansluit.

“Jana se soektog beur nie net vorentoe nie; die skrywer diep ook die familiegeskiedenis op. Wat uitkristalliseer, is die verhaal van vyf formidabele vroue wat bo die manlike karakters uittroon. Dit is vroue wat beheer neem oor hul leefwêreld. Letjie Stamboom wat vir Jana se ouma gewerk het, is een van die lieflikste karakters in hierdie storie. En soos toeka is dit nog altyd !X’uri wat haar verskyning maak om rigting aan te dui. Want wysheid oftewel intuïsie is ’n oeroue ding. (...)

“Stormkind is nie ’n tipiese wydopgesette roman nie. Stilisties lees baie van die hoofstukke soos vinjette wat sorg vir ’n vinnige en boeiende leestempo. Dit is ’n virtuose teks wat die leser onmiddellik by die verhaal intrek om nie te laat los tot by die laaste bladsy nie.

“Enersyds blom die verhaal in sy eenvoud. Andersyds skitter die woorde en beelde binne hierdie roman se magiese metafoor soos stukkies van sterre wat aarde toe geval het.”

Elbie Adendorff was die resensent van Stormkind op LitNet en sy sluit haar bespreking as volg af: “Die roman toon weer eens Scheepers se meesterlike en byna poëtiese taalgebruik: ‘nagloopkind’, ‘bloedrooi robyne’, ‘matjiesmure’, ‘sterklip’, ‘Die hele lug is vol musiek’ en ‘Die Melkweg lê in ’n dik roomstreep oor die lug’. Treffend is die stormbeeld wat ’n deurlopende motief word: die voorblad verbeeld ’n windverwaaide gesig; die plaas se naam is Stormkloof; daar is Kleinstorm en Oustorm en Stormjana; en tussendeur is daar alles wat met storms verband hou: weerlig, wind, donderweer. Die verhaal begin met ’n storm in Afrika en eindig met ’n storm in Ierland – dit verskaf ’n redelik sikliese verloop aan die roman.

“Die taalgebruik is so beeldend dat mens as leser die gebeure sintuiglik beleef: jy hoor en voel die wind wat verwoed waai; jy hoor en sien die weerligblitse; jy sien vir Tarsis wat ronddwaal in die nag; en jy sien vir Raka in Ierland. Die leser word magies ingesleep in die wonderwêreld wat Scheepers skep.

“In die roman kom intertekstualiteit voor: daar is verwysings na sprokiesverhale, byvoorbeeld: ‘Ek sal blaas en ek sal blaas tot ek jou huisie omblaas, grom die gruwelike wolf.’ Jana se hond se naam is Raka. Hy beskerm haar en pas haar op en volg Jana orals waar sy gaan – hy is selfs in Ierland om haar te beskerm toe sy haar ma in die stormweer gaan soek. Daar is verwysings na ’n Bruce Springsteen-liedjie en ’n tradisionele Ierse liedjie. Voor in die boek is ’n aanhaling uit DH Lawrence se gedig ‘Cypresses’ wat ook na die belangrike tema van voorvaarders en die geheimenisse van die lewe verwys.

“Scheepers het haar al bewys as ’n meesterskrywer van jeugverhale, kortverhale en volwasseneverhale. Sy stel in Stormkind nie teleur nie. Sy skryf toeganklik en oop vir die leser en neem ons op ’n magiese reis oor die landskappe van Afrika en Ierland.”

Op Kersdag 2018 is Riana se opdrag-Kersdrama, ’n Wonderwerk vir Kersfees, op RSG opgevoer en uitgesaai. Sy het dit lossies op ’n ware gebeurtenis gebaseer. Sarah, ’n weduwee, en haar gesin woon op ’n plot en maak ’n bestaan deur ’n klein boerdery en dít wat sy op die plot kan verbou en verkoop by haar padwinkeltjie. Hulle het net ’n bakkie as vervoermiddel. Eendag is daar ’n krisis en sy en haar gesin moet van die plaas af vlug. Op een of ander wonderbaarlike manier kry Sarah dit reg om die bakkie met haar huis se sleutel aan te skakel.

Riana vertel van die oorspronklike insident waarop sy die storie gebaseer het: “Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ’n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief.”

Die regisseur, Johan Rademan, brei ook ’n bietjie verder uit: “Ná die geweldige brande wat Knysna en George aan die Tuinroete die afgelope twee jaar deurgemaak het, bring ons ook hulde aan die inwoners van die dorpe en omliggende dorpe wat met die volle omvang van die vreesaanjaende vure gekonfronteer is.

“Uit die as en roet van die dorpies het die lewe nuwe betekenis gekry en het baie mense als wat hul ooit gehad het verloor. Lewensverlies was aan die orde van die dag en daarom is die drama, nie net oor die Kersfeestema nie, maar ook in die brandseisoen in die Kaap, so gepas en aangrypend.

“Riana Scheepers vang die kleindorpse-karakters stewig vas en omskep hul tot die juwele wat hul is. Die akteurs het werk van hoogstaande gehalte gelewer en met Joanie Combrink (Sarah Barnard), Mariechen Vosloo (Marie Barnard), Dean Balie (Wilhelm Barnard), Anrich Herbst (Krisjan Maritz) en Rolanda Marais (Leentjie) het dit gevoel of ek met die A-span werk.”

In 2015 verhuis Riana en Johan na Wildernis in die Suid-Kaap waar Riana, benewens haar eie skryfwerk, nog steeds skryfkursusse aanbied en skrywers begelei.

Publikasies: 

Publikasie

Die ding in die vuur

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630658 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • ATKV-prys 1990  
  • FAK-ontspanningsprys 1991

Vertalings

  • Nederlands deur Riet de Jong-Goossens 1994 
  • Spaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dulle Griet

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys

Vertalings

Nederlands 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Huis met drie en ’n half stories

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands as Onbevlekte ontvangenis 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Haai, Katriena, wat vertel jy my nou!

Publikasiedatum

1994

ISBN

079932132X (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die heidendogters jubel

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033816 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nou lieg jy mos, Katriena!

Publikasiedatum

1995

ISBN

079932230X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verhouding tussen outobiografiese feit en fiksie in die kortverhaaloeuvre van Koos Prinsloo

Publikasiedatum

1997

ISBN

 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: AW Scheepers

Literêre vorm

Doktorale tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Katriena, néé

Publikasiedatum

  • 1998 
  • 2004

ISBN

  • 1919765018 (sb) 
  • 0799331988 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Fundi Boeke
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036731 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Feeks

Publikasiedatum

  • 1999 
  • 2000

ISBN

0798139846 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 2000

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Blinde sambok

Publikasiedatum

  • 2001 
  • 2003
  • 2018

ISBN

0624039803 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 10 tot 12 jaar 2003

Vertalings

Nederlands Scorpioenkind

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met die taal van karmosyn

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798142111 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands vertaal deur Jooris van Hulle 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

My voete loop na Wellington: ’n rubriekkeur

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190319 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Engel in my huis: ’n rubriekkeur

Publikasiedatum

2005

ISBN

1869190912 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die avonture van Wilde Willemientjie

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146141 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Kanna-prys as beste kinderproduksie in 2006 (Verhoogproduksie)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Arboreta, die heks met die groen hare

Publikasiedatum

2008

ISBN

 9781869191467 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die verdere avonture van Wilde Willemientjie

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047346 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Katvoet

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798151078 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Katriena, vertel! Hartstories uit die kombuis (’n keur uit die vorige bundels + nuwe stories)

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799351699 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vrou in die vuur: ’n keur uit die verhale van Riana Scheepers, saamgestel deur Adriaan Meyer

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798158329 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Purper en kaneel, komyn en smarag: die kleurvolle lewe van Hannetjie de Clerq

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799356489 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vallei van melk en heuning

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799356472 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Smeul: drie vroue, een kombuis. Saam met Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799382754 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kookboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stormkind

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624084303 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Adendorff, Elbie: Stormkind deur Riana Scheepers: ’n resensie https://www.litnet.co.za/stormkind-deur-riana-scheepers-n-resensie

Bekker, Francois: Riana Scheepers boei https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20180312/281513636669852

Book chats with Salome: Stormkind deur Riana Scheepers https://w3b5ite.wixsite.com/bookchats/post/stormkind-deur-riana-scheepers

Green, Phyllis: Sprokiesverhaal ontsluit die magiese van die lewe https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Boeke/sprokiesverhaal-ontsluit-die-magiese-van-die-lewe-20190611-2

Luisterboek: Stormkind deur Riana Scheepers https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/luisterboek-stormkind-deur-riana-scheepers-20190930

Pepler, Dave: US-Woordfees: Riana Scheepers - Stormkind https://www.facebook.com/NBPublishers/videos/us-woordfees-riana-scheepers-stormkind/10156094994985279

Stormkind – Riana Scheepers https://leeskring.wordpress.com/2018/05/31/stormkind-riana-scheepers

Stormkind by Riana Scheepers https://www.goodreads.com/book/show/39151596-stormkind

 

Riana Scheepers as samesteller
  • Dogters van Afrika: verhale oor Suid-Afrikaanse vroue. Kaapstad: Tafelberg, 1997 [ISBN 062403593X (sb)]; Nederlandse vertaling deur Riet de Jong-Goossens  
  • Treffertekste. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 2000, 2002 [ISBN 9780636019461 (sb)] (2000-uitgawe saam met Viljoen; 2002-uitgawe saam met Daniel Hugo) 
  • Verstaan my verlangste100 liefdesgedichten in het Afrikaans. Saam met Jooris van Hulle. Davidsfonds Literair, 2003 [ISBN 9789063064754 (sb)] 
  • Verlore paradyse. Saam met Nico Snyman. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 2006 [ISBN 9780636070516 (sb)] 
  • Die melkweg het ’n ster laat val; saamgestel deur Riana Scheepers en Nicci Thabo. Kaapstad: Human & Rousseau, 2006 [ISBN 9780798146883] (Spesiale prys van die Departement Landbou vir die kulturele bydrae wat dié publikasie in die landbougemeenskap gelewer het, 2006) 
  • Liebenberg, Danila: Riana Scheepers praat reguit
  • Marais, Willemien: Prettige uur met baie pitkos[verhoogproduksie] 
  • Pakendorf, Gunther: Herinnerings aan tyd op die plaas 
  • Van Taak, Sophia: Nostalgiese hunkering na geboortegrond 
  • Wybenga, Gretel: Nieskrywers sorg vir leesgenot 
  • Nuwe kinderverseboek; saamgestel saam met Suzette Kotzé-Myburgh. Kaapstad: Tafelberg, 2010 [ISBN 9780624046769 (sb)] 
  • Die Afrikaanse skryfgids; saam met Leti Kleyn. Johannesburg: Penguin, 2012 [ISBN 9780143530152 (sb)]
  • Spoorvat: Jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers; saam met Leti Kleyn. Pretoria: LAPA, 2013 [ISBN 9780799360318 (sb)] 
  • Rympies vir pikkies en peuters; saam met Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit. Kaapstad: Tafelberg, 2015 [ISBN 9780624074281 (sb)] 
  • Rympies vir kleintjies en kleuters; saam met Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit. Kaapstad: Tafelberg, 2017 [ISBN 9780624081920 (sb)] 

’n Keur van biografiese artikels oor Riana Scheepers beskikbaar op die internet

  • Brand, Gerrit: Verhaal is deur na mens se hart
  • Diedericks, Erla-Mari: Riana kook met kombuistaal 
  • Keyser, Gawie: Scheepers maak vensters wyd oop vir Nederlandse lesers 
  • Lewende Legendes
  • Pople, Laetitia: Ek skryf oor wat my bang maak – Scheepers 
  • Pople, Laetitia: Ugogo begin Kaaps vertel 
  • Riana Scheepers – as mens
  • Verster, Francois: In creative company
  • Van Zyl, AJ: Die spanning tussen weerloosheid en weerbaarheid soos vergestalt in die vrouefigure van Riana Scheepers
  • Van Zyl, Johan: Skryfskool ontkiem in Riana se kop 

’n Keur van artikels deur Riana Scheepers beskikbaar op die internet

  • Brief aan mev RC Sempe: Herontplooiing van NALN se personeel 
  • Om Afrika te skryf. In Afrikaans. KKNK-rede
  • Publikasiedatum: 16 Januarie 2020

The post Riana Scheepers (1957–) appeared first on LitNet.

Alba Bouwer (1920–2010)

$
0
0

Sêgoed van Alba Bouwer

“En toe het ek geleer, so sonder my man en met my twee nuwe kinders, ’n mens moet werk vir ’n kind se liefde. Ek wens ouers met eie kinders kan daardie les leer. Jou kind se liefde kom jou nie sommer net toe nie.” (Saffier, Mei 1985)

“’n Baie belangrike insig wat jy kry soos jy ouer word, is: iets wat jy liefhet, verloor jy nooit nie. ’n Plaas wat jy met jou kinderlewe joune gemaak het, bly in jou. As jy ’n mens verloor wat jy baie liefhet, verloor jy nooit die beste deel van wat daardie mens aan jou gegee het nie.”

“Een van die lekkerste dinge vir my is om met my kleinkinders te gesels, al is hulle nog klein. Só ontdek ’n mens ’n heeltemal nuwe wêreld waarvan jy nie geweet het nie. Dit gee my ’n kyk op die werklikheid van nou. As ’n mens ouer word, moet ’n mens versigtig wees dat jy nie ’n bietjie eenkant van die werklikheid staan nie. Kinders van vandag sien die wêreld mos heeltemal anders as ons.” (Saffier, Mei 1985)

“Ek sê altyd hoe ouer ’n mens word, hoe ’n groter werklikheid word genade vir jou. Daar is geen definisie van genade nie, maar vir my is genade die wieletjies wat jy kry as jy voel nou kan ek nie meer loop nie. Die Here sit daardie wieletjies onder jou voete – en dan loop jy weer. Dit is genade.” (Saffier, Mei 1985)

“Die Here gee vir ons kursusse hier op aarde en jy moet weet dat elke ding wat met jou gebeur, deel is van jou spesifieke kursus – op geen ander manier kan die Here vir jou geestelik leer nie. Jy moet dankbaar wees vir wat jy kry.” (Saffier, Mei 1985)

“Ek het nog nooit gaan sit en dink nou moet ek ’n boek skryf nie. Dinge dring hulle aan my op. Dinge wat gedoen moet word en gesê wil wees en wat my hinder en by my bly spook totdat ek dit aanpak en afhandel.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“Ek is baie lief vir mense, maar veral vir kinders. ’n Kind se blindings is nog so oop. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer trek jy die blindings rondom jou toe sodat ander nie kan sien wat binne-in jou aangaan nie.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“Die belangrikheid van goeie menseverhoudinge is die grootste lewenswaarheid wat ek geleer het. Goeie verhoudings met die mense rondom jou is die liefde wat jy aangee gedurende jou verblyf op aarde.” (Die Burger, 27 Oktober 1992)

“’n Humorsin maak darem van jou ’n makliker mens om mee saam te stap en dit help jou deur die klipperige driwwe van die lewe en die ouderdom. ’n Verhaal oor oumense sou seker baie neerdrukkend kon word as daar nie ’n skeppie humor by is nie.” (Die Kerkbode, 20 November 1992)

“Kersfees herinner my aan die groot bevryding wat daar vir ons deur Christus gekom het, en bowenal aan die wonder van God se genade. Genade bly vir my ’n woord waarvoor ek nog nooit ’n bevredigende definisie kon vind nie, maar dis so ’n werklikheid in ’n mens se lewe. Niks kan jou beter daaraan herinner as die koms van Christus en die herdenking daarvan met Kersfees nie.” (Die Kerkbode, 20 November 1992)

“Hoe meer ’n mens die dood sien, dit naby jou ervaar, hoe makliker aanvaar jy dit. Hoe meer besef jy dis nie ’n verskrikking nie. ’n Onsekerheid, maar nie ’n verskrikking nie. En die dood is so ’n natuurlike oorstap na iets anders toe wat werklik is, wat bestaan.” (Beeld, 2 September 1993)

“’n Vrou moet altyd onthou dat sy op haar manier ’n bydrae kan lewer. Sy moet haarself nie onderskat nie, al is dit dat sy ’n goeie huisvrou is. Dis nie minderwaardig nie. Ons het elkeen iets om te gee. Ons moet bydra tot die goeie verhouding tussen mense in die land. Dit kan vroue doen, beter as die mans self. En ons moet ons geloof in God onomwonde uitdra.” (Sarie, 23 Junie 1993)

“Ek moes in my stuk lewe wat agter lê heelwat diep driwwe deur, maar daar was altyd die wonderlike genade waarvan ek bewus was. Daarby was my lewe nog altyd so ryk aan vriendskap en liefde dat ek nooit daarvoor sal kan vergoed nie, al lewe ek nog 75 jaar. Nee, rede om sinies te word, was daar nooit nie, rede om meer te probeer gee aan die ewemens, dit bly daar.”

“’n Goeie boek is ’n boek waarin die werklike en alledaagse lewe realisties weerspieël word. ’n Goeie boek is nie net vol helde nie. Niemand is óf wonderlik goed óf baie sleg nie en in ’n goeie boek is die mense doodgewoon. Goeie boeke kan jou ook leer om ander mense en hul probleme beter te verstaan.” (Oosterlig, 3 Maart 1981)

“Die langste reis vir elke enkele mens op aarde is die reis van mens tot mens. Dit is ’n reis wat in ’n leeftyd nooit voltooi word nie.” (Die Transvaler, 10 September 1982)

“’n Mens het maar jou kinders almal ewe lief, so is dit ook met die karakters in my boeke, Hulle lê my almal ewe na aan die hart.” (Kerkbode, 20 November 1992)

Gebore en getoë

Alberta Magdalena (Alba) Bouwer is op 16 Maart 1920 op ’n Vrystaatse plaas op die wal van die Renosterrivier in die distrik Vredefort gebore. Haar ma, Bertha Zeeman uit die Drakenstein, is agter haar broer aan na die Vrystaat, waar sy ná haar onderwysdiploma op ’n plaasskool skoolgehou het. “Die plaas het behoort aan ’n niggie van haar pa. Alba se ma het haar pa, Adriaan Bouwer, na die Anglo-Boereoorlog op die plaas ontmoet. “Hy was een van dertien kinders en het op sestien agter sy pa en ouer broers na die Boerekommando’s weggeloop. Maar in sy eerste veldslag is hulle saam met generaal Piet Cronjé by Paardeberg gevange geneem en na St Helena gestuur,” het Alba aan Anneke van Niekerk vertel (Sarie Marais,18 Junie 1986).

In 1995 het Alba aan Hanlie Retief (Sarie, 29 Maart 1995) vertel dat sy in ’n donderstorm gebore is. “My pa is te perd weg om die vroedvrou te gaan haal, maar die spruit kom af en hy moes óór. Hy stuur toe solank ’n ou swart vrou huis toe, maar toe dié by die huis kom, is ek klaar gebore. Te klein, te vroeg.

“En die swart vrou sê: ‘Hoe! Hy’s so klein, hy sal nie lewe nie, maar ons moet hom was, hy moet begrawe word.’ Sy het die water gebring, maar met die was skree die baba dat die wêreld dreun, seker omdat ek die gevoel gehad het dat hulle my dood wil hê, het my ma agterna vertel.

“Toe’s daar niks klere wat pas nie, want ek’s te klein. My ma moes my in doeke toedraai. En een van die groot dinge was dat my pa se trouring oor my armpie op en af kon gaan. My pa het later daarmee opgehou. Hy’t begin gesê hulle mors met sy kind, want al die bure het na hierdie klein dingetjie kom kyk. Dit was groot vermaak in die buurt, dié trouring wat kon op en af oor die kind se arm.”

Klein-kleintyd loop sy al, en praat sy al. Sy het altyd saam met haar pa veld toe gery op die bokkiekar, daar in die Vrystaat, dan sit hy haar kappietjie op en dan gaan sy saam met hom en dan hou hy haar vas. Een oggend ry hulle net so ’n draai, toe bring hy haar terug en sê dis te warm. Die middag het hy nie huis toe gekom nie. Hulle het hom onder ’n doringboom gekry, met die perde wat nog daar rondstaan. Hy het nog ’n paar dae gelewe na die beroerte-aanval en toe is hy dood.

Dit was toe Alba net ’n jaar en nege maande oud was, en haar ouers net drie jaar getroud. Haar ma moes dus haar lewe opnuut reël. By die tweemanskool op haar skoonpa se plaas was daar toe juis ’n vakante pos vir ’n onderwyseres en dit was die maklikste oplossing om met die klein dogtertjie by haar skoonouers in te trek en die onderwysbetrekking te aanvaar. Alba se eerste skooljare was op hierdie plaasskool en die jare op die plaas het die agtergrond verskaf vir haar twee Rivierplaas-boeke wat, soos sy self vertel het, ontstaan het uit haar heimwee na die plaas ná jare se woon en werk in Kaapstad.

Alba het in Klein koninkryk (Tafelberg) beskryf hoe haar oupa vertel het van haar pa: “‘Toe hy by my uitkom (op kommando), gee ek hom eers ’n deerlike loesing, en toe neem ek hom na generaal Piet Cronjé. Toe ons kort daarna by Perdeberg gevang word, word hy saam weggestuur Sintelena toe. Jare het ons daar gesit en daar het hy ook maar sy knak gekry. Dat hy so jonk dood is, is ook die Ingelse se skuld. Moet nimmer ’n Ingelsman vertrou nie, Oupa-se-kind. Net Emily Hobhouse. Sy was ’n Ingelse vrou, maar ’n Kristenmens. Gaan kyk sommer nou weer na haar portret in die eetkamer en sôre dat dit altyd hier bly hang.’

“‘Ja, Oupa,’ sê die kind. Sy sien in haar gedagtes ’n berg vol perde en heel bo-op die vrou op die portret in die eetkamer.”

Alba het in 1986 (Sarie Marais,18 Junie) aan Anneke van Niekerk vertel haar eerste beeld van ’n pa was dié oupa van haar. “Iets was fout met sy bene ná ’n lang ballingskap op St Helena. Vandat ek my verstand gekry het, het hy my teen die Engelse opgestook. Hy het gewoonlik op die stoep gesit en my so met sy kierie nader gehaak en dan stuur hy my na die eetkamer toe waar ’n groot portret van Emily Hobhouse gehang het.”

Alba se ma is op 6 April 1926 weer getroud, met Johannes Nel. Alba was toe ses. Hulle het na die plaas getrek waarop Stories van Rivierplaas later gebaseer is. Alba se broer Hendrik is hier gebore toe Alba sewe jaar oud was. Uit haar kinderdae hier het Alba die wonderlike gevoel van toegeneentheid tussen swart en wit mense onthou. Sy het die Sothovrou, ou-Melitie, onthou, hoe sy altyd verstaan het. En hoe sy Alba se Vrystaatse winterskurfte met ’n mieliestronkie moes wegskuur. En terwyl sy geskuur het, het ou-Melitie ’n storie vertel sodat die kind kon vergeet van die seerkry.

Op hierdie plaas was daar ook ’n Lulu. Lulu Diab het na ’n Katolieke skool gegaan en hulle het skoolklere, of gyms soos dit genoem is, gedra. Alba was so jaloers, want op die plaasskool het hulle gewone klere gedra. Haar ma het toe maar vir haar ook ’n gym gemaak.

Toe Alba twaalf jaar oud was, is haar stiefpa in ’n skietongeluk oorlede, vertel sy aan Nina Smit (Die Voorligter, Maart 1995). “Na sy dood het my ma teruggegaan na hulle ou familieplaas, Klein-Drakenstein in die Paarl, waar haar broer en suster gewoon het (die Bergplaas van Stories van Bergplaas). Daarna het ’n Babelse verwarring van vanne gevolg, want my ma se ongetroude broer en suster wat op die familieplaas tussen Franschhoek en die Paarl geboer het, die Zeemans, het ons kom haal om daar te woon. Sadewee in die stories is die familieplaas Hartebeeskraal in die Drakenstein, ’n omgewing met ’n streng tradisie.”

Alba het onthou dat haar ma lewenslank lief was vir woorde en dat sy dit onbewus, maar sterk, aan hulle oorgedra het. “In die verarmde Vrystaat ná die Anglo-Boereoorlog was boeke in ’n huis nie ’n vanselfsprekendheid nie, maar ons het dit altyd gehad – en geweet ’n boek is iets besonders en iets wat jy ook met eerbied behandel. Ek sien meermale my ma se gesig waar sy eendag buk oor ’n kis tuie wat my pa van ’n vendusie af saambring, ’n stowwerige boek uit die rommel haal, dit met haar voorskoot afvee en kopskuddend sê: ‘Om darem ’n boek so te behandel!’ Daardie boek was Sewe duiwels en wat hulle gedoen het door Ou Oom Jan.

“Ons het Ghwennie Barnveld en Genoveva gehad, Fanny Eden se Alleen op die wêreldGirls’ Manuals en Boys’ Manuals, Shakespeare se Complete works, Andrew Murray se boek oor die gebedslewe en so meer. Weggesteek agter in die rak was dr Van Schalkwyk se Raad in tyd van siekte, wat ek stiekem en sonder begrip probeer lees het, gefassineer deur die prentjies van manlike en vroulike binnegoed, opwindend geheimsinnig en onbegryplik.

“Later het Die Kleinspan van my Bolandse tante gekom, en my ma het geesdriftig daaruit voorgelees en die rektolle help maak. Toe kom sy eendag met die plan dat ons ons eie boek moet maak: die bladsye was van helderpienk plakpapier en die inhoud kleurprente, klaarblyklik advertensie-illustrasies wat my ma nugter weet waar gekry en met meelpap geplak het. Oor hierdie prente het ons saam met haar stories gemaak, baie opwindend. Die rooiwang-baba, byvoorbeeld, wat op sy plek in ’n tydskrif seker babakos geadverteer het, kon in die pienk boek die middelpunt word van ’n tragedie waarin hy eers hopeloos verdwyn en tevergeefs op baie plekke gesoek word, totdat sy laphoedjie op die plaasdam dryf … My groot speelmaat en medewerker aan die pienk boek was ’n meisietjie wat, soos ek, smiddae ’n bababroertjie moes oppas. Ek dink nie my ma was in haar skik met hierdie verbeeldingsvlug nie.” (Sarie, 6 Mei 1987)

In die Drakenstein het Alba se opvoeding ’n heeltemal ander wending geneem, het sy aan Anneke van Niekerk vertel. “My tante, ’n baie ingetoë mens, het met merkwaardige doelgerigtheid die Dra’enstein-tradisie tromp-op geloop. Dit skryf voor: jy gaan na die Strooidakkerk, word binne die kerkringmuur begrawe en stuur seuns na die Boys’ High en meisies na die Girls’ High. Sy het vir my by die meisieskool La Rochelle aansoek gedoen. Met die hulp van ’n afgetrede hoof en ’n medelid van haar van die ACVV, mej Martha Cillié, suster van prof Piet Cillié, is die byna onmoontlike gedaan. Ek dink daar het ek die saadjie van die ACVV ingekry.”

“My tante het my in die Engelse afdeling laat plaas. Haar rede was: ‘In hierdie land moet jy die Engelsman in sy eie taal te woord kan staan.’ Maar ek was byna dood. Ek was jonk vir my klas en om so vars uit ’n plaasskool in ’n groot skool met Engels te beland!”

Sy het nie goeie herinneringe gehad aan hierdie tyd toe sy alleen in die koshuis was nie. Sy het saam met die Joodse en Engelse kinders mathematics in Engels geneem en wanneer sy naweke op die plaas gehuil het, kon die huilbui nie lank aanhou nie, want haar ma het geglo mens moenie dinge doen om simpatie by ander mense te kry nie. “Jy teer nie op ander mense se jammerte nie. Haar ma het twee mans begrawe, maar sy was ’n vrolike mens, ’n trotse mens wat haar pyn binnetoe gedra het.”

Alba het later vertel van die skoolhoof, mej JJ Meyer, wat die reputasie gehad het dat sy “kwaai” was, maar met die terugkyk het Alba besef dat dit waarskynlik daarvandaan gekom het dat sy met niks minder as die beste tevrede was nie. “Haar eise was hoog, aan haarself en almal om haar.” (Sarie, 10 April 1985)

Alba was baie vreemd in die Engelse afdeling van die skool. Daar was dit mej Edith Aitken, haar klasonderwyseres, wat tot die redding van die jong Alba gekom het met haar onsentimentele en intelligente insig in ’n kind. Alba het mej Maria Münchmeyer wat verantwoordelik was vir Engels en Duits, se geesdrif altyd saam met haar gedra, asook haar ongeduld met kleinighede: sy het nooit aangedring op ’m klasbriefie nie en altyd gesê dat dit in die snippermandjie gegooi moes word. “Mej Kitty Dreyer het die droogste voorgeskrewe boek met vuur en geesdrif aangedurf en vir ’n kind wat vroeg al onder die betowering van die woord gekom het, was haar klasse hartsplesier.”

In La Rochelle het Alba al in haar standerd 9-jaar in die leerlingraad gedien. Sy het in 1936 op sestienjarige ouderdom gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná skool is Alba na die destydse Huguenot University College op Wellington wat later tot niet is. Daar was alles weer eens Engels, met selfs heelparty Amerikaanse professore. Hierdie kollege was in daardie dae by die Universiteit van Suid-Afrika ingeskakel en Alba was ondervoorsitter van die studenteraad. Sy het haar BA met Afrikaans en Duits en haar Sekondêre Onderwysdiploma verwerf.

Sy het vir vier jaar op Burgersdorp onderwys gegee en daarna by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Sy het toe haar weg gevind na die joernalistiek by ’n blaadjie getiteld Die Huishouding. Vanaf 1948 was Alba vir twee jaar die tannie van die Kaapse kinderprogram oor die radio en in 1950 het sy by Sarie Marais ingeval. Twee jaar nadat sy daar begin werk het, is sy as assistentredakteur onder Fred le Roux aangestel.

Uit hierdie jare het haar jare lange vriendskap met Audrey Blignault gedateer. Alba het onthou: “Elke dag het ons ’n ‘fruit lunch’ by Hildebrand gaan eet. Ek kan dit nou nog nie verdra nie, maar ons het nie geld vir iets anders gehad nie. So een keer in ses maande is ons baie deftig na die Grand-hotel. Dan het Audrey ’n pak sigarette vir die geleentheid gekoop. Ek kon nooit so lekker poef-poef nie, maar Audrey kon vir jou met styl rook, hoor!”

Terwyl Alba joernalis was, het sy haar eerste man, Hubert du Plessis, ontmoet. Hulle is in 1962 getroud. “Om met ’n wewenaar met ’n dogtertjie van elf en ’n seun van dertien te trou, het baie aanpassings geverg,” het Alba aan Nina Smit vertel. Toe hulle getroud is, het almal gesê: Waag jy dit? ’n Man met tieners? “Maar hy was ’n baie besonderse man, ’n besonderse pa. Hy is in 1969, ses jaar na ons getroud is, dood.”

In 1975 is Alba met Jan Hofmeyr, ’n prokureur van Riversdal in die Suid-Kaap, getroud en hulle het hulle op Riversdal gevestig. Jan en Alba se eerste man was saam op universiteit en hulle was vroeër jare huisvriende. Jan was vir dertig jaar getroud met pres MT Steyn se kleindogter, Tibbie van der Merwe en ná haar dood in 1969 was hy ’n alleenloper. Behalwe Leon en Annelette, die kinders wat sy van haar eerste man “geërf” het, het sy ook die vyf seuns van Jan ryker geword. Die seuns het almal dieselfde beroep as hulle vader gekies. Alba het haar huis in Oranjezicht in Kaapstad verkoop en op Riversdal ingetrek in ’n splinternuwe huis wat Jan laat bou het.

Sy het aan Rachelle Greeff (De Kat, Januarie 1993) vertel dat om jou lyf op ’n plattelandse dorp skrywer te hou, ’n “ander besigheid” is, al het hulle haar in 1987 ereburgerskap van Riversdal gegee. Die gemeenskap verwag ’n betrokkenheid van jou, nie afsondering in ’n “werkkamer” met baie boeke maar sonder telefoon nie. Veral van haar wat 23 jaar lank in die ACVV-hoofbestuur was en tot 1993 dorpsvoorsitter was. “Maar die energie en konsentrasie om elke keer weer terug te kom in die ander wêreld, die een waarin jy jouself moet verplaas. Om dit vir mense te verduidelik, is moeilik. Dis mos nie soos om agter die naaimasjien te sit, ’n naat te stik, op te staan en later kom sit en stik jy net verder nie.”

Jan is in Februarie 1999 na ’n kort siekbed oorlede. Hy en Alba het sedert 1996 in die Helderberg Village aftree-oord op Somerset-Wes gewoon. Hy is op Riversdal begrawe.

Agterna, bieg sy teenoor Hanlie Retief (Saffier, Mei 1995), was sy bly dat sy nie eie kinders gehad het nie. Dis moeilik om “stief”-kinders saam met ’n eie kind groot te maak. “Vir Annelette het ek eendag ’n stukkie rooi koordferweel by die groothandelaar gekoop vir ’n rokkie. “Waag jy dit om vir jou kind rokmateriaal te koop?” wou ’n vriendin verbaas weet. Maar vir Annelette was dit baie mooi, en ek het haar vertel wat die vriendin gevra het. En hoe ek geantwoord het ek dink die dogtertjie by die huis sál daarvan hou. Toe het Annelette my met ronde oë reguit aangekyk en gesê: “Volgende keer sê Mammie vir haar: ‘My dogtertjie sal daarvan hou.’ Moenie weer sê ‘Die dogtertjie by die huis’ nie.’” Annelette is in 1994 op veertigjarige ouderdom aan kanker oorlede en dit was die grootste verdriet wat Alba nog gehad het, want haar kinders het haar vriende geword ná hul pa oorlede is.

In 1950, toe MER 75 geword het, het Fred le Roux vir Alba saam met Rykie van Reenen Swellendam toe gestuur om die viering namens Sarie te gaan bywoon. Dit was vir Alba ’n wonderlike dag en daarna was sy dikwels by ta’ Miem (Boekewêreld, 18 Mei 1994): “MER was die eerste en enigste vroueredaktrise van Die Burger en sy was een van die groot seëninge wat die Here oor my pad gestuur het. Sy was ’n baie eenvoudige mens, maar terselfdertyd ’n gebore filosoof met besondere wysheid en ’n vlymskerp verstand. Haar eenvoud, opregte eerlikheid en diepsinnigheid het ’n geweldige invloed op my gehad. Rykie en ek het baie naweke by haar op Swellendam gaan kuier, veral as ons vraagstukke gehad het wat ons nie kon oplos nie. Sy het altyd doodstil na ons gesit en luister, maar die volgende oggend het sy vir ons ’n antwoord gehad. Sy was geweldig skerpsinnig, sy kon dwarsdeur jou kyk en ’n mens kon niks vir haar wegsteek nie. Die hele ding van eenvoudig skryf, het ek van haar gekry. Sy het altyd vir Ruskin aangehaal: ‘Have something to say, and say it as clearly as possible.’”

Dit was ook deur MER dat Alba betrokke geraak het by die ACVV. “Ta’ Miem was baie betrokke by die ACVV. Sy was jare lank reisende sekretaresse op die platteland waar sy wonderlike ontdekkings gemaak het. Sy het vir my ’n pragtige ding geskryf oor die klinieke wat die ACVV in haar tyd op die platteland gestig het waar behoeftige vroue kon kraam – hulle tarief ’n hoendertjie, ’n mandjie vol eiers.

“Sy het gesê ’n vrou wat gewoond is om haar in haar eie huis af te sloof en wat dan tien dae lank die voorwerp van aandag en sorg is, word nie net liggaamlik gehelp nie, maar ook geestelik. Dit is ’n kosbare les vir ’n opvoeder om te weet dat sy die moeite werd is om die voorwerp van aandag en sorg te wees.

“Ta’ Miem het nooit vir my gesê om by die ACVV aan te sluit nie. Ek het uiteindelik gevoel ek sal baie graag te doen wil hê met hierdie vereniging wat gemaak is deur mense soos MER en Anna Geyer. En vir my is dit ’n stimulerende ervaring wat ek vir g’n geld ter wêreld wou misgeloop het nie.”

Alba se skrywersloopbaan het in 1954 begin toe Landbouweekblad haar gevra het om ’n reeks stories vir hulle kinderrubriek te skryf. “In daardie stadium het ek vreeslik heimwee na die Vrystaat gehad en toe gaan sit ek en skryf Stories van Rivierplaas sommer so reguit sonder om eers te dink. Voor ek dit vir Landbouweekblad kon gee, lees een van die redaksielede van Sarie dit en gee dit vir Fred le Roux. Die volgende dag kom hy na my toe en sê: ‘Ek is baie jammer, jy kan die stories nie vir Landbouweekblad gee nie, ek gaan dit in Sarie publiseer.’”

Kort daarna het iemand eendag vir Katrine Harries by Sarie se kantoor aangebring. Sy en haar Joodse ma moes tydens die Tweede Wêreldoorlog vlug uit Berlyn waar sy ’n kunsdosent was, en sy het baie gesukkel om werk te kry. Fred le Roux het na haar sketse gekyk en vir haar Stories van Rivierplaas gegee om te illustreer. Alba het altyd onthou hoe hulle hulle aan Katrine se sketse verwonder het: “Ons was skoon verslae. Dit was só mooi.”

Alba het deur die jare haar verbintenis met die vrouetydskrif behou. “Ek kyk na die vrouetydskrifte om te sien hoe die posisie van die vrou verander het,” het sy aan Anneke van Niekerk vertel. “In my tyd by Sarie was dit soos die Engelsman sê ‘not quite nice’ vir ’n vrou van aansien om buitenshuis te werk nie. Vandag het dit natuurlik heeltemal verander, maar dit lyk my ons sit nog altyd met ’n dilemma: die man wil nie onder ’n vrou werk nie!

“Wat ook verander het, is dat maatskaplike werk wat altyd met behoeftige mense geassosieer was, nou in ’n groot mate onder die meer gegoede mense lê. Werkloosheid bring materiële nood. Maar daar is ook geweldige geestelike nood en die grootste hiervan is huweliksverbrokkeling. Ek kan nie vir jou sê watter afmetings dit aanneem nie, selfs op ’n dorp soos Riversdal. Huwelike verbrokkel onder die spanning en lei ook tot dwelmverslawing onder adolessente en toenemende tienerswangerskappe.”

In 1955 is Stories van Rivierplaas in boekvorm uitgegee. In die voorwoord het MER geskryf: “Uit die gewone moederaarde onder onse voete word gehaal die gekristalliseerde edelstene. Eg en skoon is hulle tot voortdurende plesier vir die mense, een geslag na die ander. Uit die gewone daelikse lewe, uit die omgang onder mense – ouer met kind, maat met maat, baas met kneg, huismense met diensmense – kom onse lafenisse, onse vreugdes, en onse voordeel. Daar is van ons wat sulke vreugdes en lafenisse weer kan ophaal uit die verlede, gekristalliseer, eg en skoon, vir almal tot voortdurende plesier. So ’n plesier vind ek en baie ander in hierdie stories van onse eie mense se daelikse lewe, op Rivierplaas.”

Felix Lategan het in Die Huisgenoot van 20 Junie 1955 geskryf dat Alba Bouwer een van die gelukkiges is wat ou vreugdes opnuut kan laat leef, ook vir ander. “In hierdie sketsverhaaltjies van ‘onse eie mense se daelikse lewe’ op die oop ruimtes van die Vrystaat het sy vreugdevolle beelde uit haar eie kleindogtertjie-dae opgediep – beelde wat noodwendig in die fluïdum van die herinneringsverbeelding in geïdealiseerde vorm uitkristalliseer, en dié laat sy deur haar eenvoudige, kinderlike vertelling leef. (…)

“Deur haar indieping in die kindersiel herinner Alba Bouwer aan die groot Nederlandse uitbeeldster van die kindergemoed Ina Boudier-Bakker, net soos haar idealiserende instelling op die dierbare dinge van die plaas wat aan die verbygaan is, aan Boerneef se Boplaas-sketse laat dink en haar simpatieke skepping van die menslike ou-Melitie aan Franz se Moeder Poulin.

“Die wêreld van Alie en ou-Melitie en die ander mense van Rivierplaas is nie groot of groots nie, maar dit is innig en eg, en dit raak die universele omdat Alba Bouwer in haar uitbeelding iets van die algemeen-menslike raakgevat het. Daardeur het sy op die gebied van die kinderuitbeelding ’n positiewe bydrae tot ons letterkunde gelewer.”

In Stories van Rivierplaas vind ons Alie en haar beste maat Lulu wat saam met die kinders speel en ook kaal-kaal die asdans dans. Ons lees van Alie wat eiers uithaal of na die melkery loer oor die kraalmuur. Alie en Lulu het heerlik in skeertyd die wol in die baal ingedra. Hulle stap met hulle leie en griffels en hulle botteltjies leiwater na die plaasskool en die lekkerste vir die jong Alie was om gedurende die vakansies saam met ou-Melitie en klein-Melitie en Sanna in die oggendson poetoepap te eet en te gesels.

Alie gaan kuier soms by haar ouma op Brakfontein waar daar “drie lekker dinge” was: die bulsakkie waarop sy snags slaap, die donkiekarretjie wat haar skool toe ry en saans wanneer hulle rondom die vuur van mieliestronke by die swart stoof in die kombuis sit. Ou-Melitie, oom Jan en tant Lenie, outa Hoppies, Kommetjie se kalfie, juffrou Barnard, die Engelsman wie se graf op Brakfontein is, saam met nog enkele ander, is die omvang van Rivierplaas se klein wêreldjie.

En so het Alba haar merk gemaak in die Afrikaanse letterkunde, want hoewel Rivierplaas vir kinders geskryf is, word dit net soveel deur volwassenes geniet. Dit is dalk, soos Elizabeth Tredoux (Sarie Marais, 15 Junie 1955) geskryf het, omdat ons grootmense so mettergrootword hierdie kindergawes verloor of verslyt het – om ons so ver weg gedwaal het van die tyd toe die muur tussen werklikheid en verbeelding waarlik niks dikker as ’n melkdoek was nie – dat dit vir ons so wonderlik is om, al is dit net vir ’n paar kwartiertjies, weer terug te glip in daardie paradys waaruit die vlammende swaard ons verdrywe het. “Hoe tam en drooggepers mens ook al is, ná ’n teugie Rivierplaas moet jy eenvoudig weer verkwik voel.”

Vir Audrey Blignault (Huisvrou, 26 Julie 1955) is die “wesenlike kenmerke van Stories van Rivierplaas die egtheid van siening en uitbeelding, die warmte van menslike omgang in mooi menslike verhoudings op verskillende vlakke van die alledaagse aanraking, en die heel besondere vermoë van die skryfster om die stemminge en ervaringe van die verlede so oortuigend en onmiddellik te laat herleef dat ’n mens werklik voel asof jy dit nou weer alles net so sien en belewe. Vir my lê die eintlike plesier van die boek in sy inhoud: die fyn, deurleefde uitbeelding van die kinderlewe op ’n Vrystaatse plaas en die wonderlike skepping van stemming en atmosfeer soos ’n fyngevoelige, ontvanklike kind dit ervaar en onthou het.”

Die opvolg, Nuwe stories van Rivierplaas, is in 1956 gepubliseer en volg die lewe van Alie die laerskoolkind met onveranderde ideale: om met pronkhaarvlegsels te spog, om deur haar voortande te kan spoeg en om dik bene te besit as kompensasie vir haar bynaam Alie Spykerboud. Al die ander karakters is nog daar: Lulu, ou-Melitie en die ander grootmense.

Stories van Rivierplaas en Nuwe stories van Rivierplaas was albei blitsverkopers en is in 1959 bekroon met die Scheepersprys vir Jeuglektuur. Alba was die eerste vrou wat die toekenning ontvang het. Haar voorgangers was PJ Schoeman, Mikro en WA de Klerk. In 1959 was Stories van Rivierplaas al in sy vierde druk en Nuwe stories van Rivierplaas in sy tweede druk.

In 1958 het Alba nog ’n karakter geskep wat vir homself ’n plek in die Afrikaanse letterkunde gevind het: Abdoltjie. AM Uys (Huisgenoot, 13 Maart 1959) het die koms van Abdoltjie, soos hy in Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap verskyn het, as ’n belangrike gebeurtenis vir die Afrikaanse kinderlektuur beskryf – “nie net omdat dit heerlike stories vir kinders is nie, maar omdat dit goed geskryf is – en met fyn gevoel. Ook omdat dit voldoen aan die eise wat aan alle goeie literatuur gestel word.

“’n Mens neem hom sommer gou aan, die bruin figuurtjie wat so ingedagte voel-voel aan die kofiatjie op sy kop. ‘Want kyk,’ vertel Alba Bouwer, ‘Abdoltjie is ’n Maleise kind’ – kind, ja dit is hy, heerlik natuurlik en oortuigend. In daardie suiwere kinderlikheid lê die voortreflikheid van hierdie stories: g’n neerbuigende ‘skrywe vir kinders’ nie, g’n sentimentaliteit van die volwassene oor die vervloë kinderdae nie, maar ’n herskepping van die kinderwêreld, suiwer en opreg. Daarom is dit, soos alle goeie kinderlektuur, leesstof waarin ook volwassenes plesier vind. (…)

“Deel van die genot wat hierdie boekie verskaf, is die mooi uitgawe. In ’n aantreklike, stewige band is dit keurig versorg; en die illustrasies deur Katrine Harries is louter plesier. Eindelik kry ons ’n kinderboek met tekeninge wat ’n goeie teks waardig is! Die tyd moet nog openbaar hoe die kinders self oor die verhaaltjies oordeel. Een ding is seker: ‘Abdoltjie’ is nie net stories nie – hy is ’n egte mensie, ’n stukkie van die ou Kaap, waarvoor ons Alba Bouwer dankie sê!”

WEG Louw het in Die Burger van 22 Desember 1958 geskryf dat hy hierdie stories hardop aan sy kinders voorgelees het, “want die stories is só mooi dat ’n mens hulle soos verse hardop moet lees, om elke klank te hoor, om elke woord as ’t ware te proe.

“Reeds as ’n mens dié boekie in die hand neem en jy Abdoltjie met die rooi kofiatjie vóór op die buiteblad sien, ’n paar hotnotsvygies, ’n silwerboompie en die lang rug van Seinheuwel met Leeukop en Tafelberg met sy wolk op sy kop doer ver op die agtergrond en ’n allersimpelste klein skippie op die see tussen die twee kruine, soos Katrine Harries dit op die buiteblad geteken het, dan weet jy: dit gaan iets besonders wees!

“Katrine Harries se 22 tekeninge by dié teks pas dit soos ’n handskoen die hand. En daardie klein kofiatjie agterop, wat ’n heerlike vonds! Die wêreldjie wat Alba Bouwer tussen dié twee omslae voor ons geestesoog oproep, is eintlik ’n sprokieswêreld. (…)

“Daar word teenswoordig baie oor ons prosa gekla, en met reg. Maar dit weet ’n mens, na jy dié boekie sorgvuldig gelees het: geleerde en grys koppe, dom doktore en astrante kritici, kan hier kom leer hoe mooi en eenvoudig ’n mens Afrikaans kan skryf! (…)

“Die speelse fantasie van dié verhaaltjies, die seldsaam sjarmante gebruik van Afrikaans – beurtelings algemeen beskaafd, beurtelings dié van die Slamse mense – met fyn, ritmiese sinne en al die ander elemente wat ’n mens van ’n goeie kinderverhaal verwag: inkanterende herhalings, opsetlike omslagtigheidjies, omskrywinge en so meer, maak dié boekie ’n kosbaarheid wat ’n mens vandag nog aan álle kinders, oud en jonk, vir Kersfees present wil gee.”

Alba het altyd gesê sy kan nie ’n gunsteling onder haar boeke kies nie, want hulle is soos haar kinders – jy’t almal ewe lief. Maar dit klink tog of Abdoltjie die een is wat haar die naaste aan die hart lê, het sy aan Rachelle Greeff in De Kat van Januarie 1993 vertel: “Dis die boek waaraan ek die maklikste geskryf het. Dit het begin toe ek gehelp het met ID du Plessis se Bo-Kaapse kore. Ek het met van die Maleiers bevriend geraak. Daar was ’n seuntjie wat so stip in die kersvlam op die tafel gekyk het en nie geëet het nie. Bokke wat teen Seinheuwel gewei het. En volmaanaande wat ons Leeukop geklim en ’n waatlemoen daarbo gesny het.

“Is dit nie wonderlik hoe ’n hele storie so half in jou aangerol kom nie. Hoedat net één stemming ’n ratjie in jou laat losspring. Dis ongelooflik, maar dit is so.”

In 1960, die jaartal wat so intrinsiek verbonde is aan vernuwing in die Afrikaanse prosa, skryf Elize Botha, verskyn ’n versamelbundel van sketse en essays, met die titel van een van MER se sketse wat daarin opgeneem is, as bundeltitel: Die dammetjie. Die ander bydraes was van Audrey Blignault, Alba Bouwer, Freda Linde, Elise Müller en Rykie van Reenen. In literatuurbeskouings is later van dié groepering gepraat as “Die Skool van MER”; MER het hulle “haar Kaapse kinders” genoem – geesverwante in wat Elise Müller met verwysing na MER genoem het “dié deernis met die mens, dié eerbied vir sy aard”, ook in hul sorg en opmerksaamheid vir die natuur, in die skerp waarneming van landsomstandighede.

“Die skeppende energie wat in hierdie bedrieglik kleinbenoemde dammetjie bymekaargebring is, het óók in hierdie ‘episode van vernuwing’ die landskap van die Afrikaanse letterkunde gevoed, en na die mense, groot en klein, wat Afrikaans-lesers is, oorgevloei.”

In 1961 het Katrientjie van Keerweder haar opwagting op die Afrikaanse kinderboektoneel gemaak. Volgens Rykie van Reenen (Die Burger, datum onbekend) het Alba Bouwer met Katrientjie ’n kinderkarakter geskep het “wat op dieselfde bankie kan sit as Alie en Abdoltjie, maar sy het speel-speel die driekuns verwerf. En het sy met Katrientjie van Keerweder ’n karakter geskep wat ’n plek in kinder- en grootmensharte sal hou solank as wat Afrikaans gelees word.

“En dan is daar ook Tina Tierat, wat by ou-Melitie kan kers vashou. Tina Tierat wat op ’n oggend haar nô Trinatjie met ’n verestoffertjie in die nek wakker kielie en in eie persoon al die ongeërgde gevatheid, al die vrolike onafhanklikheid van gees, al die gulle kinderliefde en -begrip van die Bolandse bruin mense saamvat. “Daar kan g’n beter gedenkteken opgerig word nie vir die goeie verhoudinge wat onder ’n nou uiteraard verbygaande bedeling hier in die Boland tussen wit en bruin geheers het as dié onpretensieuse kinderboekie, wat soveel meer is as net ’n kinderboek. (…)

“Baie op die patroon van Abdoltjie is Katrientjie ook ’n boek wat enersyds onverbeterlik die intieme, besige wêreldjie van ’n kleintjie herskep, en andersyds selfs ’n verstokte groot mens terugvoer na die helaas vir ons verlore tyd toe die grense tussen wat sig- en tasbaar is en wat in die verbeelding leef nog nie so onverbiddelik was nie. (…)

“Dis ’n verdienste van die boekie dat die oorgang tussen die wêreld van werklikheid en die wêreld van fantasie deurgaans so ongedwonge is. Oor die letterkundige gehalte van Katrientjie sal die literatore ter gelegener tyd weer hul dissertasies lewer. Intussen: ek ken min skrywers wie se taal hul gedagtes so moeiteloos pas as wat by Alba Bouwer die geval is. Sy is – met ’n vonkeling in die oog – een van die allerfynste waarnemers wat ons het en haar woorde kan altyd byhou om nie net wat sy sien nie, maar ook wat sy hoor, straallewendig vir haar lesers te herskep.

“Inhoud daar gelaat: Katrientjie van Keerweder is stellig die bes-versorgde volkome Suid-Afrikaanse kinderboek van die jaar. Dit bring ’n mens (jammer so laat) by Katrine Harries, wat vir die soveelste keer as spanmaat van dié skryfster medeskepper was van iets werklik pragtigs. Niks minder as medeskepper inderdaad kan ’n mens ’n kunstenaar noem wat met sulke volmaakte aanvoeling ’n skryfster se presiese nuanse van waarneming weergee nie.”

Katrientjie van Keerweder is in 1961 deur die Suid-Afrikaanse Biblioteekvereniging met die CP Hoogenhout-medalje bekroon as die beste kinderboek wat in 1961 verskyn het. Dit was die eerste keer dat hierdie toekenning gemaak is. Die beoordelaars het in hulle motivering geskryf: “Die agtergrond van die verhaal is tipies Suid-Afrikaans. Keerweder is ’n Bolandse plaas wat binne-in die dorp lê met ’n laning dennebome wat teen die ysterhek vasloop. Katrientjie is ’n dikkerige krulkopdogterjie wat met haar pa, ma en Ouboet op Keerweder woon. Ouma Vrystaat wat ‘nie sommer net ’n dikketjie, maar ’n regte potjie-dotjie-ronde-rol’ is kuier ook op die plaas. Besonder treffend is die karaktertekening van Tina Tierat met haar spontane vrolike geaardheid, raak sêgoed en liefdevolle behendigheid met kinders. En dan is daar nog die Oupahorlosie wat ‘sy blink ure van mooi dinge’ en sy ‘vaal ure van lelike goed’ agter sy groot gesig bêre en hulle net aan dié klein dogtertjie openbaar.”

“In die verhaaltjie is ’n kombinasie van droom en werklikheid. Dit handel oor ’n dogtertjie wat midde in die daaglikse boerelewe staan, maar wat telkens deur die Oupahorlosie en die beminlike kleurlingbediende na ’n heerlike storiewêreld weggevoer word. Maar hoe uitmuntend slaag die skryfster nie daarin om die oorgang van werklikheid na dié van fantasie ongedwonge en oortuigend te laat plaasvind nie! Die fyn oorskakeling tussen droom en werklikheid getuig van ’n geniale verbeelding en ’n gawe van die skryfster om haar in die ervarings- en verbeeldingswêreld van die kind in te leef, daarmee een te word en dit te verwoord. So doen die gebeure dan nooit oneg aan nie, of is daar die gevoel dat die karakters marionette is nie, maar in moeitelose, onopgesmukte taal word gedagte en handeling uitgebeeld.” (bron onbekend)

In haar toespraak by geleentheid van die oorhandiging van die medalje het Alba gesê dat die geleentheid haar herinner aan ’n gesprek wat sy nie lank voor die geleentheid nie met ’n bejaarde Basothovrou in die Vrystaat gehad het (bron en datum onbekend). “Ek het haar gevra om my van die ou Sothoverhale uit haar kinderjare te vertel. Sy doen dit toe en vra my of ek nog hou van die stories wat ’n kind se stories is.

“‘Ja,’ sê ek, ‘ek hou nog van die stories wat ’n kind se stories is. Hou jy van hulle?’

“‘Ja,’ sê sy toe, ‘ek hou ook nog van daardie stories, maar nou sal ek vir die nonnie iets sê: As ’n mens nog ’n kind is, is jou hart groen soos die somerveld ná die reën en daar is baie weiplek vir die klein diertjies en klein goggatjies. Nou, party mense word groot en hul hart word oud en moeg en droog soos die wit gras van die winter en al die klein goggatjies en diertjies gaan dood. Maar ander mense word weer groot en hulle hart word oud, maar bly groen soos die somerveld na die reën en daar bly altyd plek vir die klein diertjies en goggatjies.’

“Dit was vir my ’n pragtige beeld van die mense wat die droomwêreld van hul jeug verloor soos hulle ouer word, en van dié wat dit behou en altyd iets oor het van die drome en vir die drome van ’n kind. En nou wil ek vandag in die heel eerste plaas dankie sê aan dié mense in die SA Biblioteekvereniging wat daardie groen somerveld van die kind in hul hart behou het en by wie dus die gedagte kon ontstaan vir die instelling van hierdie toekenning vir die kinderboek.

“Die Afrikaanse kinderboek, dit wil sê die boek vir die kind onder twaalf, was geslagte lank die verwaarloosde weeskind van sowel uitgewers en boekverspreiders as boekkopers. (…) Gelukkig het daar die afgelope jare op die gebied ’n groot kentering gekom en die instelling van ’n toekenning soos hierdie, gee nie alleen beter status en groter waarde aan die Afrikaanse kinderboek as sulks nie, maar is ook vir uitgewers ’n uitdaging en vir skrywers ’n nuwe stimulus.

“Baie dankie ook aan die beoordelaars wat Katrientjie, die dikketjie, geweeg en swaar genoeg bevind het vir hierdie toekenning. Sy voel nie alleen geëer nie, sy voel ook baie dankbaar dat sy daardeur indirek tot die bevordering van die saak van beter boeke vir ons kinders kan bydra. Baie dankie ook vir al die mooi en goeie wat hier van haar gesê is. Sy herken die beeld van haarself byna nie, maar sy stel dit baie hoog op prys.

“In die tweede plaas ’n spesiale dankie aan my ou spanmaat Katrine Harries sonder wie Katrientjie nie Katrientjie sou gewees het nie en nooit hierdie toekenning sou verwerf het nie. Die helfte van die eer van die toekenning gaan aan haar en ek is bly dat sy vandag hier is sodat ek dit voor getuies aan haar kan sê.”

Nadat Alba Tafelberg Uitgewers en by name Leo van der Westhuijzen en JD Pretorius vir hulle bydraes bedank het, het sy afgesluit: “Ek wil graag vir u aanhaal wat Astrid Lindgren, ’n bekende Europese skryfster, by geleentheid gesê het: ‘Alle groot dinge wat in die wêreld plaasgevind het, het allereers in iemand se fantasie tot stand gekom, en hoe die wêreld van môre daaruit sal sien, hang in groot mate af van die krag van die verbeelding van hulle wat op die oomblik leer lees. Daarom moet kinders boeke hê en daarom moet daar mense wees wat werklik ’n oog het vir die soort boeke wat die kind in die hand gelê word.’

“Baie dankie aan almal in ons biblioteke wat daardie oog het en werklik omgee watter soort boeke ons kinders in die hand gelê word.”

Katrientjie van Keerweder is in 1965 saam met Stories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck met die Scheepersprys vir Jeuglektuur bekroon.

Stories van Ruyswyck, wat in 1963 gepubliseer is, neem die verhaal van klein Alie verder. Sy gaan nou kosskool toe en moet leer om aan te pas by nuwe mense en ’n lewe wat baie anders is as dié wat sy op die plaas geken het.  Die sêgoed en die hele siening van die kinderlewe en die grootmense is fris en onbedorwe, maar nooit naïef nie. En dit is waarom soveel mense van verskillende ouderdomme ewe lekker hieraan sal lees.

Stories van Bergplaas is ook in 1963 uitgegee en RN (Die Burger, 20 Desember 1963) beweer weer “dat ook hierdie boek van Alba nie soseer vir kinders bedoel is nie, maar wel ook vir grootmense wat nog iets van hul kinderlike verbeelding oorgehou het of wat oud genoeg geword het om weer aan hul kinderdae terug te dink. Miskien ook vir mense wat nog van mooi dinge hou, want daar lê ’n waas van skoonheid oor die boekie.

“Dit vertel van Grietjie wat deur die klank van woorde getoor word, en haar meer aardse broertjie Bramie, die bruin kinders Klein Willem Houtmens, Jaffie en Diksiel, en Trui met Dingetjie op haar heup – dis die kinders van Bergplaas. ’n Paar van die grootmense is tant Letta en oom Koos, ou Jafta, die liewe ou outa Warie, met sy bruinmenswysheid, en ai Nonkie. Daarby kom Lappies, die hondjie, en die ou hoenderhaan, Steier, wat deur sy koppigheid ’n ontydige dood vind.

“Hierin is ’n poësie aanwesig en so waaragtig as dié in enige gedig waaraan ’n mens kan dink. Het Rilke in sy briewe aan ’n jong digter nie vir hom met nadruk aangeraai om die weg na sy kinderland terug te vind nie, dié ware en onuitputlike bron van álle poësie?

“Maar daar is, intiem en byna onopsigtelik met dié verruklike poësie van die aarde vervleg, ook morele standpunte aanwesig, waarmee ’n mens nie anders as rekening móét hou nie: die wedersydse vriendskap en trou tussen blank en bruin plaaskinders; die strenge en tog werklik begrypende geregtigheid in die optrede teenoor nie-blankes in die algemeen. Dit is ligpunte dié in ons menslike verhoudinge, waarvan buitestaanders gewoonlik niks begryp nie.

“Terwyl ’n mens Stories van Bergplaas lees, kry jy in toenemende mate ’n gevoel van opwinding: dis mos beter as alles wat Alba Bouwer al ooit geskryf het – nie heeltemal so naïef as die mooi Stories van Rivierplaas en Nuwe stories van Rivierplaas nie, ryper en nader aan die werklikheid as die byna fantastiese Abdoltjie, nie so beperk aan tyd en plek as Stories van Ruyswyck nie. Kortom, ek voel in hierdie stadium absoluut oortuig daarvan; dis Alba Bouwer se mooiste, mooiste boek!

“Ek was jare lank jaloers op boeke soos dié van Eleanor Farjeon in Engels, maar Stories van Bergplaas is mooier: daar is duursamer kwaliteite daarin en dis wesenlik beter geskryf!”

Dirkie van Driekuil het in 1966 sy verskyning gemaak en hy is beskryf as ’n “waardige saamstander” in die ry van heerlike, woelige persoontjies wat Alba Bouwer vir klein lesers en nog-nie-lesende luisteraartjies in die lewe geroep het. VDB (SA Beeld, 23 Oktober 1966) het die stelling gemaak dat Dirkie van Driekuil een van Alba se beste kinderboeke nog is en beslis haar digterlikste. “Dit het die lewegewende verbeelding, die kleur-oorbruggende menslikheid, die humor, die speelsheid, die raak waarneming, die onuitblusbare plesier in woordklank en veral dialoog wat haar vroeëres ’n lus gemaak het. Daarby is dit of die kinderboekie dié keer met ’n ryper, dieper lewenswysheid pols. Maar van prekerigheid is daar nie sprake nie, en die geheel het die afgeronde eenheid van ’n klinkklare klein lied. (…)

“Want dit is die lewenshouding wat onopdringerig hierdie Alba Bouwer-boeke ten grondslag lê wat hulle onbetaalbare besit maak vir die Afrikaanse kind. Die illustrasies en die pragtige skutblad en omslag is deur die skryfster se ou spanmaat, Katrine Harries. ’n Mens kan van ver sien hoe diep Dirkie en ou Koeneels ook in haar hart gekruip het.”

Op die program Oor skrywers en boeke (Anneke Keyter, 22 November 1966) van die Afrikaanse Diens van die SAUK is as volg gesels: “Met die natuur as leermeester, aan Dirkie vertolk deur die ou bruinman Koeneels, leer die kind begryp dat daar ’n seisoensiklus in die natuur sowel as in die mens se lewe is. Hy word bewus gemaak van ’n planmatigheid daaragter. Terselfdertyd leer hy die hartseer ken wat dit meebring, maar ook ’n positiewe aanvaarding van ’n ‘nuwere bedeling’.

“Toe Koeneels nie meer kon styfstaan vir wingerdwerk nie, moes hy werf toe. Alles was vir hom asvaal totdat hy besluit het: ‘ek sal gestuk nie vaal wees nie’. Hy het sy huisie se deur blou – ‘soos die April se lug oor die geelwingerde’ – geskilder en toe hy so tru staan, toe sê hy: ‘Nuwere bedeling ofte nie nuwere bedeling nie, maar waar is die vaal kolle nou?’ Hiermee begin vir hom ’n nuwe tyd van nuttigheid – ’n ander soort nuttigheid.

Dirkie van Driekuil wek die indruk van ’n ballade. Elke strofe bevat ’n ontwikkeling van die gedagte of van die verhaal en eindig óf met ’n soort refrein waaraan elke lid van die gesin deelneem, óf met ’n beskrywende afrondingsparagraaf wat net so herhaal word.”

Alba het haar tweede CP Hoogenhout-medalje in 1971 gewen met ’n Hennetjie met kuikens. Dit vertel die verhaal van Sarie, die wit kind, en Sara, die bruin kind, wat albei in die Goudstad woon: Sara in ’n klein grys huisie in Soweto en Sarie in ’n wit huis in een van die voorstede. En soggens wanneer Sarie se pappa en Sara se pa Ennereke albei werk toe is, vertel die wit mamma en die bruin mamma albei dieselfde storie aan hulle onderskeie dogtertjies. Sarie en Sara se mammas was as kinders maatjies.

MJM skryf in Volksblad (18 Mei 1972) as volg oor Hennetjie: “Die betonwoud staan tussen die grys huisie en die wit huis, maar die verhaal van die plaas en van Ma Matêba, van die Iemelaai, die hennetjie-met-kuikens en die liedjie van die rooi blom in die hart, van die boerseepreuk en die nuwe-melk-ruik, van die vuurhuis en die poppe-met-die-stokkies-lywe bly aan weerskante van die woud voortleef: sprokiesmooi en onvergeetlik. 

“Vir Sarie en Sara sou alles maar net ’n verhaal uit hulle mammas se kinderdae gebly het as die wit dogtertjie nie op ’n dag ’n nuwe hoed moes kry en die bruin dogtertjie nie op daardie selfde dag ma Polani se hennetjie-en-sy-kuikens wat so lekker na roet en strooisrook ruik, moes gaan verkoop nie.

“Hierdie kinderverhaal is ’n innige samevatting van waardes wat nie durf uitsterf nie, ’n samevatting van ’n leefwyse wat aan die wegvaag is en van menseverhoudinge soos wat dit tog kan bestaan. Dit is ook die verhaal van kindwees in die ware sin van die woord: van stilweg speel en grootoog luister en raaksien; die geniet van dinge wat onherroeplik sal verander. In die boek vind die leser die waardigheid en gelykwaardigheid van twee rassegroepe, die vrede wat daar in suiwer menseverhoudinge te vind is. Hierdie klankryke, nostalgiese verhaaltjie is méér as net ’n onvergeetlike storie. Ondanks – of miskien juis vanweë – die sober eenvoud daarvan, bevat dit ’n les in menseverhoudinge wat soos Saa-Saa-Saa-rie-tjie se rooi blom in die hart sal blom.”

In sy motivering vir die toekenning van die CP Hoogenhout-medalje het Carl Lohann gesê (Die Burger, 15 September 1972): “Soos in haar vorige werke gee die skryfster ook hier aan die leser ’n blik in die gevoelslewe van gewone, alledaagse mense. Maar dié kinderboek is nie gewoon en alledaags nie, omdat sy met soveel liefde en deernis ’n herskepping gee van die verlede, van ’n tydperk wat gekenmerk was deur ’n besonder mooi verhouding tussen mense. In hierdie waardige menslike verhoudings wys sy op die waarde van opregtheid en natuurlikheid in menslike omgang.

“Die verhaal val in drie dele, waarvan die eerste twee oënskynlik herhalings van mekaar is. Op ’n besonder vernuftige wyse word hulle egter inmekaargevleg, op so ’n manier dat hulle aanvullend tot mekaar is en die hele beeld eers deur albei saam blootgelê word.

“Die kenmerkende skryfstyl van Alba Bouwer, die ritme en klank, die sensitiewe woordkeuse, die eenvoud waarmee sy ’n ingewikkelde situasie teken, dit alles maak hierdie werk puik lektuur vir ’n kind. Maar omdat ons hier ware kuns het, sal ook die volwasse leser, hoewel op ’n ander vlak, groot waardering kan hê vir hierdie werk, een van die bekoorlikste stories wat nog ooit in Suid-Afrika vir jong kinders geskryf is.”

Die omslag van die boek beeld ’n swart hennetjie met wit spikkels en die oulikste swart kuikens uit. Dit laat ’n mens nogal aan tarentale dink, maar vir die Vrystater in Alba Bouwer het daardie hoendertjies haar teruggeneem na die kleihenne en kuikentjies wat die Basotho’s gemaak het.

“Dié gewoonte het ook al effens uitgesterf, hoewel ’n mens nog soms die kleihenne en kuikens op plase aantref,” het Alba vertel (Die Burger, 13 Maart 1972). “So het ek enkele jare gelede een dag op ’n Bantoeseuntjie afgekom wat met toe oë gesit en sing het. Voor hom het hy nog ’n enkele hennetjie en ’n paar kuikens gehad. Ek was so bly dat ek dit vir my kinders gekoop het, want ek glo ’n kind kan nie sonder hierdie kleidiertjies grootword nie.”

Onder die naam Magriet Coetzee het Alba in die sewentigerjare gebedeboeke vir vroue die lig laat sien. Dit was oorspronklik deel van ’n rubriek wat in Sarie verskyn het. Sy was aanvanklik taamlik huiwerig om dit aan te pak, omdat sy gevoel het dat ’n mens nie vir ’n ander persoon kan skryf hoe om te bid nie. “Aan die oorweldigende reaksie het ek egter besef dat die gebede wel vir die lesers iets beteken. Dit het hul behoeftes en probleme wat hulle soms moeilik in woorde kon omsit, verwoord. En hulle meer insig gegee. Hulle het besef dat daar ook ander is met dieselfde behoeftes en probleme.” (vertel aan Suzette Truter, Die Burger, 12 Oktober 1988)

In 1984 het Alba dit weer reggekry – ’n nuwe prys vir kinderlektuur ingepalm. Hierdie keer wen sy die eerste MER-prys vir haar boek Vlieg, swaeltjie, vlieg ver wat in 1983 gepubliseer is. Dit het ook die CP Hoogenhout-medalje vir 1982–1983 ontvang.

Die besluit om die MER-prys aan Alba toe te ken, was eenparig en is geneem deur ’n onafhanklike groep beoordelaars wat bestaan het uit Marina le Roux, Elize Botha, Roy Pheiffer en Rykie van Reenen. Alba se reaksie was dat MER ’n groot invloed op haar en haar werk gehad het. In Alba se kinderstories gaan dit hoofsaaklik oor die omgang tussen mense van alle rasse, soorte en ouderdomme, en oor die kosbaarheid wat uit so ’n omgang voortvloei as dit goed is. In Vlieg, swaeltjie, vlieg ver gaan dit oor die wonder wat daar kan wees in die vriendskap van ’n mensegesin met drie kuikens.

Vlieg, swaeltjie, vlieg ver is Alba se eerste kinderboek in twaalf jaar. Dit was ook haar enigste kinderboek wat nie deur Katrine Harries geïllustreer is nie. Harries is in 1977 oorlede en Alba het vertel: “Katrine was baie oorspronklik. Vir die rok van die lappop op die voorblad van ’n Hennetjie met kuikens het sy haar ma se ou blou voorskootjie stukkend geknip en dit gebruik. Ek kon net nie weer ’n kinderstorie na haar dood geskryf kry nie. Uiteindelik het ek tog Vlieg, swaeltjie, vlieg ver geskryf wat Alida Bothma geïllustreer het.”

Elsabe Steenberg (Die Burger, 15 September 1983) het gemeen dat dit ’n vreugde is om ná twaalf jaar weer ’n boek van Alba Bouwer in die hand te kan neem, “een wat boonop ’n pragtige voorkoms het omdat dit deur Alida Bothma van fyn, stemmingsvolle potloodtekeninge voorsien is. Die verhaal speel af aan huis van Faantjie en Hannatjie en hulle ma en pa. Die swaeltjies besluit dat die dakkie bokant Faantjie-hulle se voordeur ’n gawe plekkie is vir ’n nes en nie baie lank nie, of Mevrou Swaeltjie broei op haar eiertjies. Ongelukkig breek die nessie en die eerste broeisel kleintjies val dood neer op die grond. Gevoelige kindgerigte taal word deurgaans gebruik en enige mens wat hierdie werkie lees, ongeag sy ouderdom, sal verryk word deur die eerlike, taalgevoelige verhaal van swaeltjies én mense wat universeel seil, duik en swaai.

“Faantjie is so ontsteld dat hy sommer met Hannatjie begin rusie maak. Die swaeltjies herstel egter hulle nessie sodat hulle kan broei voordat hulle moet vertrek. Faantjie bid vir Liewe Jesus dat die swaeltjies nie weer moet uitval nie, maar die nessie breek weer. Hierdie keer vlieg Meneer en Mevrou Swaeltjie maar sonder hulle kroos Anderland toe en laat hulle drie verwese kleintjies in die sorg van Faantjie en sy ma.”

Susan Kruger (bron en datum onbekend) skryf dat hierdie boek nie net die verhaal is van drie wees-swaelkinders wat deur mense grootgemaak is nie, “maar dat dit veral die verhaal is van Faantjie wat deur hierdie nuwe verantwoordelikheid wat hom opgelê is, leer om meer van homself te gee. Hy leer ook dat mens se gebede nie altyd beantwoord word soos mens gedink het dit moet beantwoord word nie. Die swaarste ding wat Faantjie leer, is dat daar in die lewe iets soos afskeid bestaan. (…)

“Met dieselfde deernis en insig in die leefwêreld van ’n kind wat in haar vorige boeke na vore kom, skryf Alba Bouwer hierdie verhaal oor swaeltjievoëltjies en swaeltjiekinders.”

Met die opvoering en publikasie van Reza de Wet se drama Diepe grond (HAUM-Literêr, 1991) is ’n klein stormpie in die Afrikaanse letterkunde ontketen. Rykie van Reenen vertel in Die Burger (19 April 1995) meer daaroor: “In Reza de Wet se stuk is dit dertig jaar later op Rivierplaas en Alie en haar halfsimpel broer Hennie woon daar bloedskandelik saam in die nou vervalle opstal. Hulle vermoor ’n agent wat kom ondersoek instel op aandrang van ’n tante,” en soos Rykie van Reenen aan Alba vertel het, dit smaak haar ou-Melitie, wat die twee versorg, “maak van hom biltong vir hulle. Die gruwelmoord dra in elk geval ou-Melitie se goedkeuring weg.”

“Die stuk begin met Alie wat die kamerpot onder haar en Hennie se dubbelbed uitsleep, haar naghemp optrek, en sjorrrr – daar op die verhoog!” vertel Rykie aan Alba oor die telefoon.” Toe Alba dit gehoor het, was sy vir ’n oomblik sonder woorde.

Rykie het verder vertel: “Wat Reza de Wet daarmee voor hande kon gehad het, was vir my in daardie stadium tot daarnatoe. Wie gee haar die reg om Rivierplaas se mense in hul wese te verkrag en onteer? Want vat aan Rivierplaas, en jy vat aan ’n Boere-idille van die ou Vrystaatse samelewing op die platteland; vat aan Ou-Melitie, Jôna whê, jy vat aan ’n moeder van ’n mens vir wie derduisende lesers, groot en klein, net so lief is as wat Alie vir haar was; les bes, vat aan Alie en jy vat aan Alba, want wie anders as Alba self is die bekkige meisietjie met die dun beentjies? Die enetjie wat so mal is oor die klink en die klank van woorde?

“Alba se uitgewers, Tafelberg, vat die saak prokureurs toe en dreig met ’n hofsaak. Op watter grond? Het skrywers kopiereg op hul karakters – tog nie, as jy kyk na wat al soveel keer in die letterkunde gebeur het? Aangesien Rivierplaas kennelik ’n sterk outobiografiese inslag het, sou hier sprake kon wees van crimen injuria?

“Regsopinie teen regsopinie. Ons hoor Reza se pa is/was regter-president van die Vrystaat. Duskant op die skaal sit ons Alba se man, Jan Hofmeyr, jare lange prokureur op Riversdal, en die vyf lang regsgeleerde seuns wat hy en Alba tussen hulle het!

“Die Mark Teater in Johannesburg koop die regte. Diepe Grond kan egter nie opgevoer word voor die saak bygelê word nie: mej De Wet sal die name van haar hoofkarakters verander. Alie, Hennie, en ou-Melitie word Soekie, Frikkie en Ou Alina.

Diepe Grond speel in sy wese op die vlak van die dieptepsigologie. Alie en Hennie se bloedskandelike verhouding is byvoorbeeld nie soseer morele kommentaar op sedelike verwording nie as wat dit dui op die manlike en vroulike aspekte van die mens se gees wat tot eenheid, heelheid, moet kom voordat innerlike genesing kan plaasvind. Die hermafrodiet, sê mej De Wet in ’n onderhoud met Die Suid-Afrikaan, is ’n geykte beeld vir selfkennis. Dink, nè!

“Die drama kyk na wat gebeur as ‘reg’ en ‘verkeerd’ outoritêr van buite op die kind afgedwing word: erotiese belewing wat sy onskuldig verken, word byvoorbeeld onderdruk en die psige word deur die skuldgevoel skeefgetrek. Verlossing kom deur af te gaan in die diepe grond van die eie gees, in die domein wat anderkant die gemeenskap se inperkende norme lê.

Van die persoonlike word die lyn deurgetrek na die kollektiewe psige van die Afrikaner na die geesteswêreld waaruit ’n verwronge politiek kon voortkom.

“Vir mej De Wet, wat nie net die problematiek in ’n drama uitgewerk het nie, maar in daardie eerste opvoering self Alie gespeel het, was die ervaring magtig ‘bevrydend’. Mense by die opvoering het bewoë kon sê hoe diep dit hulle insgelyks geraak het.

Sy het haar ‘bedonnerd geskrik’ vir die verontwaardigde reaksie van hier duskant: Hoekom vir Rivierplaas by al hierdie vieslikheid bysleep? Maak soos die kinders sê jou eie ‘game’ op, a, los uit onse Alie en Melitie!

“Vir haar wat self kleintyd ‘baie mal was’ oor Stories van Rivierplaas, wat daarin bevestiging gevind het van haar eie kinderervaring, ook op ’n Vrystaatse plaas, was daar geen effektiewe snelskrif om daardie wêreld van paradyslike onskuld by te roep nie, daardie geborge gevoel van harmonie tussen wit en swart en die natuur. Sê: ‘Alie’, sê: ‘Ou-Melitie’, en jou hele Afrikaanse gehoor is onmiddellik by. Haal hulle uit, en dis so goed jy sny die hele deskant uit die lied. In ’n wêreld waarin die mite van ’n vroeër idilliese saambestaan afgryslik uitmekaarval, verteenwoordig hulle die teenpool, wat heeltyd op die agtergrond saampraat.

Gestroop van daardie verwysingswêreld, vind André Brink in sy Rapport-resensie van Diepe Grond se gepubliseerde teks ‘’n effens histeriese, patologiese “gevallestudie”.’

“Nabetragting: Wie se kant sal ’n mens kies, noudat die hele debakel haas agter die bult verdwyn? Die verontwaardiging wat ons-aan-die-Albakant gevoel het oor die verkragting van haar en óns Alie se onskuld, lê nog sommer vlak in my; min skeel of ek êrre my net hier van voor af. Tog kan ek begryp wat Reza de Wet wou doen, selfs hoekom juis so. Die vraag is net in groter verband, hoeveel andermensgoed, hoeveel andermensgevoelens durf iemand aan eie kuns offer? Hier in die latenstyd vind ek dit intussen onnodig om ’n mens so op die spits te laat dryf tussen óf en óf, leer al meer saamlewe met én en én. Dis beter vir die bloeddruk …”

In 1992 is Alba se eerste roman vir volwassenes onder die titel Die afdraand van die dag is kil deur Tafelberg uitgegee. Una Niewoudt skryf (Die Burger, 27 Oktober 1992): “Die verhaal handel oor twee susters, Bettie en Marie, se wedervaringe as jong meisies en hul vordering op die lewenspad tot by hul laaste aardse tuiste, Huis Lourens. Die aanpassings by ’n wêreldjie wat tot die allernoodsaaklikste gekrimp het, is nie vir die susters die ergste van oud word nie. Wél die besef dat jy nie meer baas oor jou eie liggaam is nie en die vrees wat opnuut begin knaag elke keer wanneer ’n bekende sterf.

“Dit is ’n menslike verhaal vol hartseer, deernis en humor. Hoewel van die gebeure en veral die karakters in die verhaal op die werklikheid gegrond is – die karakter Bettie is Alba se oorlede ma en Marie haar ma se suster – is ’n groot deel van die roman met fiksie ingekleur. Alba het ’n paar jaar gelede aan die boek begin skryf, maar daar het gedurig dinge voorgeval wat haar verhinder het om die verhaal te voltooi. Sy het nie ’n bepaalde boodskap in gedagte gehad terwyl sy die boek geskryf het nie, maar sal tevrede wees as die verhaal van Bettie en Marie die leser tot nuwe insigte bring.

“Bettie en Marie het by Alba Bouwer gaan aanklop en gesê dis tyd dat daar oor hulle geskryf word. En sy hét oor hulle geskryf. Al het dit ’n paar jaar geneem om hul storie op papier vas te lê, en al het dié storie soos ’n groot stuk deeg in haar hare gevoel.”

Alba het aan Una Nieuwoudt in Die Burger (27 Oktober 1992) gesê: “Ouderdom is ’n onderwerp wat te dikwels omseil word ook deur skrywers. Ons lewe in ’n tyd waarin die bejaardes al meer word. Dit help nie om die ouderdom te probeer vermy nie - ’n mens moet aanvaar dat die ouderdom en dood deel van die lewe is. Ek dink partykeer dis goed dat ek so lank gewag het voor ek die boek geskryf het, want ek het ook nou oud geword. Op 72 is ’n mens hartlik oud. Ek het nou ’n beter insig in die ouderdom.”

 John Kannemeyer vertel in sy resensie (De Kat, Maart 1993) dat die titel van die roman ontleen is aan Olga Kirsch se digbundel Negentien gedigte (1972):

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en geel.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

Volgens Kannemeyer gee Die afdraand van die dag is kil ’n “pragtige beeld van die laaste fase in die lewensgang van die twee susters. Hy voel egter dat daar ’n probleem met die chronologie is, maar dat dit nie afbreuk doen aan die feit dat dit ’n diep menslike boek is nie, ’n roman wat met sy sterftonele getuig van ’n deernis en ’n insig wat ’n skrywer alleen in sy beleë jare kan bereik. Alba Bouwer skryf goeie prosa en hierdie roman bevat pragtige bladsye oor die lewensgang van ou mense soos ons dit vroeër in Afrikaans nog net by MER aangetref het.”

Errol Victor (Die Transvaler, 22 Oktober 1992) het gemeen dat Afdraand van die dag gaan oor eensaamheid, aftakeling en die afhanklikheid wat die ouderdom meebring, maar ook oor die troos van herinneringe, van dié wat omgee. “Dit is ’n menslike, snaakse, hartseer boek; vol drome, versugtinge en openbaringe. ’n Boek wat die mens se verganklikheid en aftakeling tot die onverwoesbare kern van menswees só uitbeeld dat dit die leser met nuwe eerbied vir die lewe laat. Dit is ’n besondere boek en leef lank nadat die boek neergesit is nog in die gedagte.”

Hennie Aucamp het in Rapport (8 November 1992) geskryf dat daar vir die Bouwer-aanhanger geen breuk tussen haar jeugboeke en hierdie roman is nie: “Elke boek is van dieselfde hand; elke boek adem ’n gees van sereniteit; elke boek van Bouwer is in die eerste plek ’n woordkunswerk, of dit nou Dirkie van Driekuil heet of Die afdraand van die dag is kil. En die tematiese raakpunte wat haar roman met die res van haar oeuvre het, is ook nie mis te kyk nie; met die Bergplaas- en die Rivierplaaswêrelde by name.

“Maar as ’n indringende studie van die wêreld van die ou mens in ’n ouetehuis, ja, in dié sin is Die afdraand van die dag is kil wel ’n boek vir volwassenes. Nog nooit is daar in Afrikaans soveel aandag aan die ou mens in sy laaste lewensronde bestee nie; daardie jare wanneer hy vir eenvoudige liggaamlike inspannings van ander afhanklik raak en hy homself broksgewyse begin prysgee, soos sy beheer oor spiere, bene en eie lot ingee.

Die afdraand van die dag is kil sluit sterk by ’n bepaalde prosatradisie in Afrikaans aan; ’n tradisie wat van MER, Freda Linde en Audrey Blignault loop, en wat gekenmerk word deur ’n veredelde gebruik van volkstaal. ’n Mens sou ook kon sê dat Alba Bouwer die eindpunt van hierdie tradisie verteenwoordig; maar dis nie heeltemal waar nie. Sonder enige slagspreuk of bewustelike ideologie, is ook Alba Bouwer ’n feminis – soos MER voor haar. En dus ‘modern’.

“Vrou-wees, van kind af tot in die ouderdom, word as eksistensiële feit gestel. Alba Bouwer skram byvoorbeeld nie weg van die biologiese van vrouwees nie. Erotiek, swangerskap, geboorte, bloeding, verlies van blaasbeheer, al dié sake kom aan bod, maar sonder dat daar oormatige verteltyd daaraan bestee word.”

Hoe hanteer Alba Bouwer, volgens Hennie Aucamp (Rapport, 8 November 1992), die somber temas, van aftakeling en die dood? “’n Mens dink aan ’n uitspraak van Norman N Holland in The dynamics of literary response. Elke kunswerk wat jou doelbewus ontstel of verontrus, sê hy, het ’n ‘ingeboude maneuwer’ wat jou toelaat om dié ontsteltenis te bemeester. Humor en ironie is een van Alba Bouwer se maneuwers; Die afdraand van die dag is kil is by tye ’n baie snaakse boek. En die ander maneuwer, veral in die gedetailleerde beskrywings van sterftonele, is ’n kalm bewustheid van die onsienlike. Hiervoor (…) net een voorbeeld: Liesbet wil omdraai en nog een keer aan haar ma se lyk vat, maar ‘halfpad na die bed steek sy vas: dis nie meer Ma wat daar lê nie. En sy weet meteens klaar en duidelik dat sy, net soos haar ma, deel is van iets anders, iets grenseloos groters as hierdie aardse bestaan waarin sy nog staan, maar waaruit haar ma vertrek het.’”

Volgens AP Grové (Insig, Desember 1992/Januarie 1993) kan die boek seker as ’n ouetehuisroman bestempel word, maar is dit ’n ontoereikende omskrywing. “Ons het hier nie bloot, of selfs in hoofsaak, die somber uitbeelding van ’n avontuurlose bestaan nie, hoe sterk en onontkombaar die trekkrag van die dood ook al gegee word. Die dag mag hier kil wees, maar die uitbeelding is vol warmte en gul. Bowendien gaan dit hier om ménse, veral dan om die twee susters, Marie en Bettie, wat ’n sentrale plek in die boek beklee. Maar in die tehuis is daar ook ander figure, elkeen met sy eienaardigheidjies en hebbelikhede, mense wat in die laat stadium van hul lewe soms nog ’n sekere ydelheid kan openbaar en ’n bietjie vernaam kan probeer doen, mense wat taai aan die laaste brok waardigheid en selfstandigheid probeer vashou. So kom daar afwisseling, ook van stemming en beligting, in hierdie grou wêreld, ’n verskeidenheid wat met die inwoners en personeel daarby van die tehuis ’n vol wêreld maak, ’n mikrokosmos waarin erns en luim vermeng kan raak en waarin daar by al die patos ruimte vir die bevrydende glimlag bestaan.

“En waar jy mense kry, individue, kan jy spanning verwag, ’n botsing van persoonlikhede, soos byvoorbeeld dié tussen die twee susters: Tussen die oper en vroliker Bettie en die somber, agterdogtige Marie met haar onheilspellende blik word dit ’n wedywering, ’n sluimerende jaloesie selfs wat eerder fyn gesuggereer as breed uitgewerk word. So kry ons deurgaans ’n spel van verhoudinge en dit alles word met soveel gesag gegee, met so ’n oop oog vir die sinvolle besonderheid dat ’n mens intieme eerstehandse kennis by die skryfster wil vermoed, die soort insig en kennis van sake wat aan die roman iets van ’n outobiografiese karakter wil gee.

“Daarmee is nie gesê dat die boek ’n soort dokumentêre verslag is of wil wees nie. Hierdie ouetehuis en sy mense word so vol-menslik en met soveel deernis, begrip en humor geteken dat die boek, ten spyte van sy geloofwaardige werklikheidsbasis, ’n verbeeldingswerk word, ’n roman wat ons die geslote ruimte van die tehuis toon as ’n ganse wêreld vol sterflike wesens.”

Die afdraand van die dag is kil was op die kortlyste vir sowel die CNA- as die MNet-prys vir 1993.

Met Alba se 75ste verjaardag in 1995 gee Tafelberg ’n paar huldigingsbundels uit. Rykie van Reenen was die samesteller van Die lang reis van hart tot hart: ’n keur uit haar toesprake. “Uit hierdie toesprake kan duidelik gesien word hoe beskeie Alba was. Haar waardigheid en wysheid kom ook sterk na vore en op papier word die toesprake essays wat kosbare rigtinggewende leidrade bied,” sê Jalna Schumann (Insig, April 1995).

Thomas van der Walt was verantwoordelik vir die samestelling van Die blink uur van mooi dinge: ’n huldiging van Alba Bouwer. Die eerste afdeling bevat uiteenlopende bydraes uit Alba se wye vriendekring en die tweede deel bevat letterkundige essays. Tafelberg het in 1994 ’n gebedeboek wat Alba onder die skuilnaam Magriet Coetzee geskryf het, Skuiltes op die pad, ook weer uitgegee, en die Rivierplaas-omnibus is in 1995 heruitgegee. Dit bevat Stories van RivierplaasNuwe stories van RivierplaasStories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck.

Benewens die pryse wat aan haar boeke toegeken is, het ander erkennings ook nie agterweë gebly nie. In 1983 is Alba aangewys as een van veertien nuwe verteenwoordigers om in die Mediaraad van die Nuusblad-Persunie te dien; in 1987 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n nuwe kinderboekprys ingestel wat sou bekend staan as die Alba Bouwer-prys vir Kinderliteratuur wat elke drie jaar toegeken sou word; in dieselfde jaar het sy ’n ereburger van Riversdal geword; in 1995 word sy erelid van die Akademie; en ook in 1995 ontvang sy ’n VLV-toekenning; in 1996 het die Universiteit van Port Elizabeth ’n eredoktorsgraad aan haar toegeken; in 1998 het sy die FAK-Prestigeprys ontvang vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Nadat sy erelidmaatskap van die Akademie ontvang het, het Alba gesê dat dit vir haar ’n sonderlinge eer is en dat vandat sy verneem het van hierdie eer wat haar te beurt geval het, die woorde van ’n Nederlandse gesang uit haar kindertyd heeltyd in haar kop gedraai het: “Verdien ’k sulks, ik sondaar, nee.”

Op Dinsdag 5 Oktober 2010 is Alba oorlede in die aftree-oord Helderberg Village waar sy aangebly het na haar tweede man se dood. Sy het vir jare Alzheimersiekte gehad en het in ’n koma verval. Sy is uit die NG Kerk Riversdal-Wes begrawe. Sy laat ses stiefkinders, 17 kleinkinders en 6 agterkleinkinders agter. Alba de Jager, ’n kleindogter, is vroeër in 2010 oorlede.

Huldeblyke

  • Lina Spies: “Ek is dankbaar dat sy stil weg is, want nóú kan ek haar begin onthou. Ek kon nooit besluit vir wie ek die liefste is nie – Alba of Audrey Blignault, maar gelukkig het ek geweet ek hoef nie te kies nie.” (Volksblad, 8 Oktober 2010)
  • Jan Hofmeyr, seun: “Die eerste gedagte wat by my opkom as ek aan haar dink, is haar sin vir netheid, eenvoud en haar betroubaarheid. Dit het in alles wat sy gedoen het, na vore gekom. In haar huis, haar voorkoms, haar gesprekke, haar geskrifte, haar voordragte, haar verhouding met mense, selfs haar motor – jaartal ten spyt. Sy was die tweede ma wat ’n gesinstafel op Riversdal en Stilbaai weer warm en vol kon maak.” (Volksblad, 8 Oktober 2010)
  • Danie Botha: “Sy is vir my die soort mens vir wie jy onmiddellik agting het. Jy bewonder haar. Jy voel spontaan waardigheid by haar aan, ’n mengeling van nugterheid én verhewenheid.” (Die Burger, 11 Oktober 2010)
  • Elize Botha in 2005: “In my leerjaar as kwekeling-joernalis by Die Burger is ek een aand uitgestuur om die Maleierkoorfees in die Kaapstadse stadsaal by te woon. Ek het ’n sitplek in een van die sierlike losies gehad en onder die ander ‘in-sittendes’ was ID du Plessis en Alba Bouwer. Alba was een van die beoordelaars saam met ID du Plessis. En wanneer ek terugkyk, is dit vir my só toepaslik dat ek haar daar sou sien, in die kring van Du Plessis en die leiers in die Maleiergemeenskap, maar ook in 1952: ’n ster in die opkomende vrouejoernalistiek, assistentredakteur van die genre-verskuiwende Sarie (toe nog Sarie Marais) – sjarmante gespreksgenoot, stylvolle verskyning, met daardie kenmerkende oogopslag, die helder, innemende kyk van haar blou oë wat lag en vonkel en opreg belangstel in die een wat sy aankyk. Die towerkrag van Alba se woorde in haar Rivierplaas-boeke, Dirkie van DriekuilKatrientjie en Abdoltjie het ná 1955 dekades lank lesers oud en jonk gelok om ’n tyd lank ’n Rivierplaas in die Vrystaat, ’n Bergplaas in die Boland, ’n plek genaamd Ruyswyck, Driekuil en die Bo-Kaap, Keerweder en selfs die Goudstad te bewoon. Dit was woorde wat afstande van allerlei soorte kon uitwis. Dit is moontlik om Alba se besonder vindingryke spel met vorm, klank en betekenis van woorde te sien as deel van die vernuwing in die Afrikaanse prosa wat juis in die bakenjaar van 1955 op breër literêre terrein merkbaar begin word het.” (Die Burger, 17 Desember 2005)
  • Réna Pretorius in 1995: “Op watter terrein Bouwer ook al diens gelewer het, of steeds lewer, sy kom dwars in die hart lê van elkeen wie se lewe deur haar aangeraak is. Kritici skryf al byna vier dekades waarderend oor die besondere verdienste van Bouwer se kinderboeke as literêre tekste en het veral waardering vir die tydlose tema, die waarde van omgang met mense, alle soorte ewe-mense, en die kosbaarheid wat uit die goeie omgang met ander vloei.” (Die Burger, 24 Junie 2005)
  • Lizette Rabe in 1995: “Vir almal wat nie die nimlike/minlike Alba – ‘tannie Alba’ vir die jongeres met dieselfde eerbied as ‘Ta’ Miem’ destyds vir haar – aan die woord by leeskring of vrouekring gesien het nie, het Rykie van Reenen die guns gedoen om ’n keur toesprake saam te stel. En vir diegene wat haar wel ervaar het: in Die lang reis van hart tot hart kry jy die onthou swart op wit. Om die pêrels van wysheid wat die geliefde skrywer en mens so moeiteloos (lyk dit) kan uitdeel, paragraaf vir paragraaf te gaan uitdink. Die pêrels blink met vele fasette. (…) Dáárom: Dankie, tannie Alba! Vir baie blink ure van baie mooi dinge, vir die Storie­trilogie, vir die reis van hart tot hart. En al die paaie tussenin.”
  • Leon Coetzee (haar stiefseun) in Maart 2010: “Alba se invloed in my lewe is vandag my grootste bate. Ek dink vandag op haar 90ste verjaardag met groot bewoënheid terug aan die wonderlike jare wat ek gehad het saam met een van die merkwaardigste vroue in Suid-Afrika.” (Die Burger, 16 Maart 2010)
  • Hennie Aucamp in Maart 2010: “Wanneer ’n mens ’n galery van onsterflike karakters in die letterkunde ­oproep, sal kinderkarakters in kinder- en jeugboeke ’n plek ­opeis, en dit geld ook die ­Afri­kaanse letterkunde. ’n Mens dink aan die ‘monsters’; aan Brolloks en Bittergal van Langenhoven, aan Water­bobbejaan van Ben Venter. Maar jy dink ook aan die fynsinnige kindergestaltes uit die pen van Alba Bouwer, soos Alie van Rivierplaas en Abdoltjie van die ­Bo-Kaap, wat blywend en ­tydeloos geword het in die her­innering; kortom klassiek. Haar aanvoeling vir woorde en hul toonwaardes, haar onfeilbare sin vir ritme, behoort weer aan die hoë klok gehang te word, in ’n tyd ­waarin onpresiese ­segging die reël en nie die uitsondering nie geword het. Bouwer het in die laaste fase van haar skryfloopbaan oor ‘daar­die ander kind, die ou mens’ – háár woorde – begin skryf, en haar beklemmende ­roman, Die afdraand van die dag is kil, laat geen twyfel oor die beproewinge van oudword en oudwees nie.” (Die Burger, 16 Maart 2010)
  • Marina le Roux in Maart 2010: “Haar indrukwek­kende oeuvre sluit in tien oorspronklike kinder- en jeug­boeke. Sy het ook talle kinderboeke uit Engels, Duits en Nederlands in Afrikaans vertaal en verwerk, die bekendste miskien Winnie-die-Poeh (1985). Voorts het Bouwer ook kosbare bydraes gelewer tot tydskrifte en verskeie ­ver­samelbundels.” (Die Burger, 16 Maart 2010)

Een van haar waardevolste geleentheidstukke wat opgeneem is in Die lang reis van hart tot hart is, volgens Elize Botha, “Om ’n boek te maak”. Aan die slot van die stuk het sy gesê: “Die ambag van die boekmaker, die skrywer … is ’n poging om vir die kinders wat nou hier grootword, iets te vertolk en oor te dra van die vreugde van deel hê aan hierdie land met sy baie soorte mense.”

Só sal haar skrywershand ons steeds bly voed, uit die mooi boeke wat sy gemaak het.

Ter herdenking van haar 100ste verjaardag in 2020 word ’n spesiale program gedurende die Woordfees op Stellenbosch aangebied waartydens twee van haar sewe stiefkinders, Leon Coetzee en Jan Hofmeyr, herinneringe aan Alba Bouwer met die gehoor sal deel. ’n Herdruk van die Rivierplaas-omnibus sal ook by die Toyota US Woordfees bekend gestel word.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na
Boekklub: Alba Bouwer 100 – Rivierplaas se ma: 12 Maart by die Boektent.

 

Publikasies:

Publikasie

Stories van Rivierplaas

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1957
  • 1959
  • 1961
  • 1962
  • 1965
  • 1967
  • 1982
  • 1988

ISBN

  • 0624016926 (hb)
  • 0624026477 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1959 (saam met Nuwe stories van Rivierplaas)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Nuwe stories van Rivierplaas

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1957
  • 1958
  • 1959
  • 1960
  • 1962
  • 1965
  • 1976
  • 1985

ISBN

0624022331 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1959 (saam met Stories van Rivierplaas)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1959
  • 1961
  • 1962
  • 1963
  • 1967
  • 1986

ISBN

0624023664 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Katrientjie van Keerweder

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-toekenning 1961
  • Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Stories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Stories van Bergplaas

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1964
  • 1965
  • 1967
  • 1968
  • 1975
  • 1984

ISBN

  • 0624001067 (hb)
  • 0624020355 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Katrientjie van Keerweder en Stories van Ruyswyck)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Stories van Ruyswyck

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1965 (saam met Stories van Bergplaas en Katrientjie van Keerweder)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die leerling-towenaar

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Rip van Winkel

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Dirkie van Driekuil

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

’n Hennetjie met kuikens

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1988

ISBN

0624001342 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

CP Hoogenhout-toekenning 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Ienkel dienkel: ’n versieboek vir kleintjies

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014258 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderversies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Vlieg, swaeltjie, vlieg ver

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624019071 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

  • CP Hoogenhout-toekenning 1982–1983
  • MER-prys vir Jeugliteratuur 1984

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die afdraand van die dag is kil

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031799 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuiltes op die pad: gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624033104 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Alba Bouwer-omnibus

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033732 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die lang reis van hart tot hart: ’n keur uit haar toesprake. Saamgestel deur Rykie van Reenen

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033645 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Toesprake

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Rivierplaas: omnibus

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780624045311 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Magriet Coetzee

Publikasie

Nuwe gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008754 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Gebede van ’n vrou

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1985

ISBN

  • 0624004538 (hb)
  • 0624023087 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Aand van die lewe: gebede van ’n bejaarde vrou

Publikasiedatum

1988

ISBN

0624017354 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Gebedeboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

 

Alba Bouwer as samesteller

  • Afrikaans 100: ’n klein gedenkboek met byskrifte. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 0624007456 (hb)]
  • Goedgeluk: verjaardagalbum. Saam met Audrey Blignault. Kaapstad: Tafelberg, 1988
  • MER:  
    • Kom nader: ’n keur uit die werke van MER. Saam met Audrey Blignault. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1965
    • ’n Kosbare erfenis: briewe van MER, 1916–1975. Saam met Anna Rothmann en Rykie van Reenen. Kaapstad: Tafelberg, 1977 [ISBN 0624010562 (hb)]

Alba Bouwer as vertaler

  • Augustinus, Aurelius, Heilige Bp van Hippo: Lewende woorde van Augustinus: gedagtes uit sy preke. Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers [19-] [ISBN 086991876 (sb)]
  • Bamberger, Richard:
    • My eerste groot storieboek. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [ISBN 0624006670 (hb)]
    • My groot-groot storieboek. Saam met Linda Rode. Kaapstad: Tafelberg, 1987 [ISBN 0624025535 (hb)]
  • Bergengruen, Werner: Die Spaanse roosboom. Kaapstad: Tafelberg, 1946, 1960
  • Dejong, Meindert: Perd uit die storm. Kaapstad: Tafelberg, 1971
  • Dundas, Dorothy: Die seeverhale van Seepbel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1957
  • Hueck-Dehio, Else: Tippie se liefde. Kaapstad: Tafelberg, 1966
  • Hunt, Irene: Die groen pad. Kaapstad: Tafelberg, 1968
  • Lennart, Clare:
    • Katinka van Kattesnorstraat. Kaapstad: HAUM, [196-]
    • Rinus die stasiemossie. Kaapstad: HAUM, 1960
  • Milne, AA: Winnie-die-Pooh. Kaapstad: Tafelberg, 2007 [ISBN 9780624045335 (sb)]
  • Prokofief, Sergei: Pieter en die wolf. Kaapstad: Tafelberg, 1958
  • Van Anrooy, Frans: Die seeperdjie. Kaapstad: Kinderpers, 1974 [ISBN 0799500593 (hb)]
  • Von Gebhardt, Hertha: Die dogtertjie van êrens. Kaapstad: Tafelberg, 1961

Artikels oor Alba Bouwer op die internet

Artikels deur Alba Bouwer op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Hierdie album is op 2 Maart 2020 bygewerk.

The post Alba Bouwer (1920–2010) appeared first on LitNet.

Viewing all 321 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>