![]() Foto: NALN |
Sêgoed van Elsabe Steenberg Wat hou Elsabe Steenberg op koers? "Daar is drie dinge wat vir my belangrik is. Eerstens moet ’n mens positief bly, anders vernietig jy jouself en die mense om jou. Die tweede ding wat hierby aansluit, is dat jy elke dag moet konsentreer op dinge wat jou bly kan maak, al is dit net heuning op roosterbrood wat jy eet of iemand wat jou bel en graag met jou wil gesels. Derdens moet jy dankbaar wees, want die wêreld is baie ru, maar God bly in beheer." (Sarie, 2 Augustus 1995) Wat bring vir haar ’n warm gevoel om die hart? "Om ’n houertjie vrugteslaai-jogurt lepel vir lepel op te eet tot daar nie meer ’n smeerseltjie oor is nie; om onder warm komberse te lê en luister hoe ’n woedende wind buite waai; ’n kanarie wat in sy hok ’n vreugdelied sing; as my ou varsity-kamermaat bel en ’n halfuur gesels asof ons mekaar gister gesien het; daardie oomblik dat ’n vliegtuig loskom van die aarde en die lug inskiet; as die posbode met ’n Kersvader-glimlag en ’n hoop briewe in die deur staan." (Sarie, 16 November 1988) Resep vir geluk: "Moenie moed opgee nie; behou bo alles jou geloof; hoop dat dit beter sal gaan en dat daar wel met alles ’n doel is; kyk weg van jouself, dit maak dit vir ander om jou ook makliker; selfbejammering het nog nooit enige nut gehad nie." (Sarie, 29 November 1989) Waaruit het sy krag geput teen haar siekte? "As dit nie vir die hulp van Bo was nie, het ek lankal gaan lê. Ek is diep geestelik, maar nie in ’n kerklike sin nie. My gesin en vriende beteken ook vir my baie." (Rooi Rose, 20 November 1991) "Ek glo boeke sal altyd ’n plek hê by oud en jonk, ondanks die ontwikkeling van elektroniese vermaak. Ons almal wat graag lees, het die heerlike taak om kinders en tieners bewus te maak van die wêreld wat oopgaan by die lees van elke boek. Lees is ’n onbewustelike en draaglike manier van leer, onthou en groei. Boonop is dit ’n onuitputlike bron van vermaak waarin almal kan deel." (Keur, 20 Mei 1994) "Ek is baie krities op my eie werk en is nooit regtig tevrede met die eindproduk nie. Maar ek dink dis goed. As ’n skrywer voel hy't sy volle potensiaal bereik, moet hy maar ophou skryf." (Volksblad, 18 Februarie 1994) Oor pryse: "Ek sal nóóit weer ’n boek van my inskryf vir ’n prys nie. Daar is ek verby. ’n Bekroning van ’n werk is nie vir my ’n kriterium van gehalte nie. Jy behoort jou nie daaraan te steur nie. Ek distansieer my van pryse. ’n Prys vir ’n boek is so ’n relatiewe ding. Ek sal my egter steur aan wat ’n kind sê oor my boek. As ’n kind daarvan hou, is dit wonderlik. Want dis hulle vir wie ek skryf." (Beeld, 31 Mei 1986) Haar lewensfilosofie: "Die groot ding waarop alles neerkom is, weet jy het ’n keuse. Solank jy ’n keuse het en positief kan kies, kan jy die lewe aandurf en dit sien as ’n uitdaging." (Beeld, 31 Mei 1986) Is skryf vir haar moeite? "Daar gaan baie gedagte in stories in. Dis soms swaar, maar dis nie iets wat ek haat nie. Dis so deel van wat ’n mens self is, miskien omdat dit skeppend is. ’n Mens maak tog deel uit van die skepping – ek bedoel: God het geskep. Hy het mense gemaak. Ons kan nie mense maak nie; nou maak ons maar stories. "Storiemakery is eintlik my hele lewe. Ek kan nie sê dis my werk of stokperdjie nie. Ek kan dit nie afskakel en eenkant sit en sê dis skryf en dis lewe nie. En as dit nie daarvoor was nie, weet ek nie of ek sou kon aangaan nie." (Saffier, Maart 1995) Hoe voel sy oor die voortbestaan van Afrikaans? "Optimisties. Daar's te veel mense wat Afrikaans praat en ek glo nie jy kan ’n volk se taal doodmaak nie. Ek weet ek sal nooit in Engels kan werk nie. Ek het net nie die taalgevoeligheid in Engels wat ek in Afrikaans het nie." (Saffier, Maart 1995) Oor haar rolstoel: "Jy het plesier van jou eie rolstoel wat wel tweedehands is maar vir jóú nuut - en gelukkig rooi. Jy sukkel nog met Vaaltyn, die battery-aangedrewe stoel wat ál maar foeter om in die rondte te ry pleks van vorentoe. Jy hoop nog dat jy hulle vroeër of later sal kan verkwansel, maar jy wil dit wat die wiele jou geleer het, nie sáám sien verdwyn nie. Nooit nie. Wiele het jou ryker gemaak as wat bene ooit kon, buitendien vat ’n mens nie wiele saam nie. Dis met respek gesê één rede waarom jy graag in die hemel wil kom, want ja, in ’n ander plek – jy wéét onwrikbaar – in die hel jaag álmal op rolstoele rond." (Sarie, 7 Februarie 1979) |
Gebore en getoë
Elsabe Steenberg is op 14 Maart 1938 gebore as Elsabe Brink, een van vier kinders, twee dogters (Elsabe en Marita) en twee seuns (die skrywer André P en Johan) van Daniël Brink en AW Brink, ook ’n skrywer van kinderboeke. Sy is op Vrede in die Noord-Vrystaat gebore en het haar jeugjare op verskeie klein dorpies in al die provinsies van Suid-Afrika, behalwe KwaZulu-Natal, deurgebring as gevolg van haar landdrosvader se werk.
Elsabe het op dertienjarige ouderdom reeds begin skryf. Haar eerste stories is in tydskrifte soos die Klein Burger, Jongspan en Patrys gepubliseer.
Sy het aan Wilma de Bruin (Volksblad, 14 Februarie 1981) vertel dat sy as kind gereeld tennis teen die muur gespeel het en dan stories uitgedink het. "Toe ons Sabie toe trek, was daar nie meer ’n muur nie en het ek net stories uitgedink."
Sy was dertien toe sy haar eerste kortverhaal aan Huisgenoot gestuur het: "Ek dink dit was sommer met die hand geskryf. Die kommentaar was nie te gunstig nie: iets soos dat die verhaal glad nie goed genoeg is om in ’n tydskrif te verskyn nie. Kort daarna is my eerste kortverhaal in Die staatsamptenaar gepubliseer."
Nadat van haar kortverhale in tydskrifte verskyn het, het sy besluit om iets "groters" aan te pak: ’n roman. Sonder dat iemand geweet het, het sy begin skryf – onder die verekombers in die middag na skool. Toe die boek klaar was, het sy, sonder om aan haar familie iets te sê, dit na ’n dame wat geadverteer het vir tikwerk gestuur. Groot was die jong Elsabe se ontnugtering toe sy gesien het wat sy sou moes opdok vir die tikkery. Toe moes sy vir haar ouers vertel. Gelukkig het haar broer aangebied om die tikwerk te doen. "Toe kom die boek naderhand van ’n uitgewer terug met die oordeel dat hy goeie moontlikhede bevat, maar hy's nog nie 'ryp' nie. Seker te hope," het sy in Klasgids van Oktober 1982 vertel.
"Ná nog ’n onsuksesvolle dagboekroman op vyftien, het ek my vir ’n lang ruk net by kortverhale bepaal. Sukses was maar min. Dat ek maar aangehou het, sou deur oningeligtes as vasberadenheid bestempel kon word, maar dit was eintlik net dat ek móés. Dis soos asemhaal vir party mense, skyn dit: daarsonder kan dié spesie nie lewe nie."
Sy het op Lydenburg in Mpumalanga gematrikuleer.
Verdere studie en werk
Ná skool is Elsabe na die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO waar sy haar BA, Onderwysdiploma en in 1964 haar MA in Afrikaans-Nederlands behaal met Die begrip van die woord "duister" in die poësie van NP van Wyk Louw.
Sy het vir ’n wyle onderwys gegee aan Gimnasium Hoërskool op Potchefstroom voordat sy in 1961 getroud is met David Herculaas Steenberg wat op daardie stadium Afrikaanse onderwyser was en later lektor en professor in Afrikaans aan Noordwes-Universiteit. Sy het sedert 1976 Afrikaans-Nederlands van tyd tot tyd aan dieselfde universiteit gedoseer. Sy het ook later aan die hoof gestaan van die nuwe kursus (destyds) in kinderliteratuur en het nagraadse studente onder haar vleuels geneem.
Sy was ’n keurder van manuskripte by die groter uitgewers en was ook samesteller van Voorlees vir nadink: ’n verhaalbundel vir kinders vir gebruik in laerskole en tuis (1980). Nadat sy siek geword het, het sy haar klasse in kinder- en jeugliteratuur na haar huis te geskuif.
Vier kinders is uit haar huwelik met DH Steenberg gebore - twee dogters (Ilse en Erika) en twee seuns (Adri en Conrad). Albei hulle dogters het al boeke vir kinders en tieners gepubliseer. Haar oudste seun, Adriaan, was in 2008 die slagoffer van ’n huisbraak toe hy voor sy vrou in hulle huis op ’n kleinhoewe in Leeufontein doodgeskiet is.
In 1975 het Elsabe haar DLitt aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang met haar tesis Die kind in die Afrikaanse prosa onder promotorskap van Gerhard Beukes.
In 1990 het die Potchefstroomse Stadsraad aan Elsabe Steenberg, saam met persone soos TT Cloete en Louis Luyt, ’n Gratia-toekenning gegee vir haar bydrae wat sy as skrywer tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het.
Die Potchefstroomse Universiteit gee in 1993 'n erkentlikheid-oorkonde aan haar en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer haar met 'n besondere erepenning in 1993 vir haar bevordering van kinder- en jeugliteratuur. 'n Straat in Langenhovenpark in Bloemfontein is na haar vernoem en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns stel 'n prys vir vertaalde kinder-en jeugliteratuur in Afrikaans in, wat na haar vernoem is. Hierdie prys word vanaf 2008 elke drie jaar toegeken.
In die 1970's is veelvuldige sklerose by Elsabe gediagnoseer. Sy het aan Bessie Pienaar (Sarie, 29 November 1989) vertel dat sy teen daardie tyd al twaalf jaar teen die siekte of die "gog" soos haar kinders dit genoem het, geveg het.
"Oor baie jare het ek die simptome toenemend ervaar, maar nie geweet hoe ernstig dit is nie. Eers het ek agtergekom dat ek nie meer ordentlik kan brei nie; toe het ek begin sukkel met blaas- en nierpypontsteking; my bene het kol-kol gevoelloos geraak en my regterhand slaperig. Later het ek dubbelvisie in die een oog ontwikkel en al moeiliker geloop," het sy aan Pienaar vertel.
Sy het die een spesialis na die ander besoek, vibreerkussings probeer en selfs ’n vrou besoek wat haar "die hande opgelê" het. En uiteindelik is die diagnose gemaak dat sy verspreide sklerose het - ’n siekte wat die senuwees aantas sodat impulse nie die brein bereik nie.
En toe het haar swaarkry werklik begin, want sy het besluit om haar nie te laat onderkry nie – al het sy van krukke na ’n rolstoel gegaan, het sy bly glo dat sy weer sal opstaan en loop, al was sy soos ’n "meermin wat op die strand uitgegooi is en hulpeloos met haar vinne rondflap".
Sy het verder aan Bessie Pienaar vertel: "Mense neem my kwalik dat ek nie berus en aanvaar nie, maar die radionika-behandeling gee my iets om aan vas te klou. Ek weet net dat ek eendag uit hierdie stoel sal kan opstaan en weer sal kan loop. ’n Mens wil amper nie oor jou gevoelens praat nie. Dis ’n verskriklike ding: niks word makliker nie – die laaste jare word ek al hoe swakker. Maar my gees is sterk. Ek glo net ek gaan nie dood nie. Ek dink ek is gesonder as ander mense wat kan loop. Iets wat onmoontlik is, vat net bietjie langer om reg te kom. Dis baie selde dat ek moed verloor. Dis vir my belangrik om te kan hoop. Jy kan nie vou as jy kinders het nie, want ter wille van hulle gaan jy van dag tot dag voort.
"Maar dit bly moeilik. Ek val nog baie en as ek die aand moeg en pap is, moet my man my soms uit die bad pluk. Dis ook swaar om heeldag te sit, daarom dwing ek myself om soms te probeer staan. Ek kry dit selfs reg om vir vyf minute teen die kas te leun. Val ek, roep ek maar iemand om my weer op te help."
In Keur van 20 Mei 1994 het Elsabe Steenberg aan Marietjie Smith vertel dat haar siekte ’n dieper dimensie aan haar skryfwerk verleen het en dat dit haar gehelp het om meer meelewing met ander se leed te hê: "’n Mens wil dit nie graag erken nie, en dis jammer dat jou menswees en potensiaal op so ’n manier moet groei, maar dit is waar dat jy daarsonder ’n bepaalde dieper dimensie in die lewe mis. Solank die gees egter sterk staan, bly die lewe die moeite werd.
"Ek besef dag na dag dat ek die hoop moet behou. Ek sal seker so hoop-hoop doodgaan, want ek kry altyd iewers vandaan weer krag om aan te gaan."
Elsabe se eerste twee boeke het sy onder ’n skuilnaam Elsabe Ryke geskryf om haar teen "herkenning te verskans" en sy het dié naam ’n hele rukkie gebruik.
Reeds met haar eerste boek vir volwassenes, Die moerasloper (1968), het Elsabe se menslikheid en haar sensitiwiteit vir die "underdog" na vore getree. Die moerasloper vertel die verhaal van Marissa, ’n ongehude moeder. Deur terugblikke leer die leser die Marissa van die verlede, toe sy swanger geword het, ken, terwyl die leser in die hede die Marissa leer ken wat ’n obsessie het om haar kind te sien. Die titel speel terug op die ooievaar wat in die letterlike sin "draer van geluk" beteken, maar dit kan ook terugslaan op die moerasganger – "dus de vogel die in drassige weiden loop".
In Volksblad (24 April 1969) skryf Anna van Zyl dat die oorgange tussen toe en nou seepglad hanteer word. Vir Van Zyl is dit ook nie ’n "eenkantige verhaal" nie aangesien die skrywer balans bring wanneer Marissa weer haar pa sien en besef dat dit nie net sy was wat gely het nie. "Dit is veral in die uitbeelding van leed dat die skryfster uitblink. Hier skryf sy met waaragtige insig en begrip en gevoel, met ’n oortuigingskrag en aanvoeling wat mens soms waarlik diep ontroer. Die moerasloper is ’n boek met ’n delikate tema wat delikaat en fyn gehanteer word en ’n bevredigende geheel vorm."
Elsabe se eerste verhaal vir die jeug is ook in 1968 uitgegee onder die titel Dat ek mag sien. Antonia Visser is na ’n ongeluk blind en die verhaal gee veral ’n goeie beeld, nie net van haar eie reaksie daarop nie, maar ook dié van haar tweelingsuster, hul vader, skoolmaats en onderwysers.
Louise Behrens het gereken dat hierdie nie net sommer enige jeugverhaal is nie, maar ’n verhaal van "moed, volharding en aanpassing" en een wat deur almal wat met blinde kinders in aanraking kom, gelees moet word. (Bron en datum onbekend) "Baie behendig leer die skryfster ons veel oor die probleem van blindheid en die metodes waarmee dit bekamp word."
Hier volg uittreksels uit resensies van sommige van Elsabe Steenberg se jeugboeke:
- Korrel en Kuif (1975; In 1985 heruitgegee onder die titel Van motho en van mens): "Korrel en Kuif is, streng gesproke, gevorderde jeuglektuur, maar dit is vanweë die aktuele tema van soeke na die adolessente self (beide in die geval van Christoph en James) en die daarstelling van ’n ontmoetingsvlak, ’n bewussyns- en aanvaardingsvlak tussen blank en nie-blank, ’n boeiende novelle wat ook vir die meer volwasse leser veel inhou. Aanvanklik val die agtergrondsverskil die twee maats nie op nie en word Ester se inmenging in hulle kommervrye spel nie verstaan nie, maar ná die inbraak wat die einde van hul saamspeel beteken, word Christoph deel van ’n blanke en James deel van die nie-blanke wêreld. Die herontmoeting tussen die twee adolessente is gespanne, byna vyandig en loop die aand van die wraakinbraak op ’n fisiese botsing tussen wit en swart uit. James vergesel Christoph op sy vlug plaas toe en tydens die vlug begin hulle mekaar en hulle onderskeie agtergronde verstaan. Daar groei wedersydse respek en begrip vir mekaar. Die verhaal van die twee seuns word op spannende, aktuele wyse vertel. Die skryfster hanteer die gegewe met simpatieke begrip en versteur nooit die fyn balans tussen die twee wêrelde nie. Korrel en Kuif is ’n fyn verhaal waarvan kennis geneem moet word." (Hilda Grobler, Hoofstad, 30 Julie 1976)
- Klawervyf (1976, met herdrukke; wenner van JP van der Walt se landswye jeugverhaalwedstryd vir taalfeesjaar 1975): "Die verhaal dek ’n krisistyd in die sestienjarige Fiona se lewe. Sy raak verlief op Gustav en op 40-jarige ouderdom skenk haar moeder geboorte aan ’n Down-sindroom baba. Die moeder ontwikkel ’n oordrewe beskermende gevoel teenoor die baba en stoot so Fiona en haar vader af. Dit is ’n waardige bekroning, want dis ’n fynsinnige verhaal en as jeugboek besonder geslaag. (...) Die verhaalfigure kry oortuigend lewe, veral die effens ingekeerde en sensitiewe Fiona. Die verhaalfeite self is interessant en die gang en afloop oortuigend. Op grond van epiek, mensbeelding en die aanduiding van verhoudings, die sensitiewe en oortuigende inlewing in die gemoed van die tiener, is dit ’n besondere storie hierdie en een wat verdien om in wye kringe gelees te word." (PD van der Walt, Transvaler, 5 November 1976)
- Twee om te slaap (1978): "Die twee determinante vir die 12-jarige Annemart se optrede in hierdie verhaal is die Bybelteks dat die Here gee as jy vra en haar vurige begeerte om haar geskeide ouers wee saam te bring. Deur die Here om hulp te vra en haar ouers eenvoudig bymekaar te bring en in ’n kamer toe te sluit totdat hulle instem om weer saam te bly, wil sy die probleem oplos – al is haar pa weer getroud en haar ma lief vir oom Brent. (...) Deernis en begrip is in die kritiek ’n oorwerkte uitdrukking, maar ’n mens wil tog sê dat dit is hoe die skryfster die trauma van egskeiding vir kind en ouer behandel. Met teerheid en fynheid skets sy die verhouding tussen twee ouers, met groot kindkennis vertel sy van Annemart, die kind-grootmens wat moet leer dat die lewe nooit stilstaan of teruggaan nie, maar onverbiddelik voortvloei en wegvloei." (Hannie Schutte, Transvaler, 8 Julie 1978)
- An-Alleentjie (1978, met ’n herdruk in 1985): "In An-Alleentjie toon Elsabe Steenberg weer eens dat sy die vermoë het om die gevoelswêreld van die kind te verstaan en dit op ’n sensitiewe wyse weer te gee. Hierdie is meer as ’n storietjie vir kinders: dit sal grootmense ook loon om die boekie te lees om ’n beter begrip van die kind, sy emosies en gedagtes te kry." (Oosterlig, 20 Maart 1979)
- Wolf ja, Wolf nee (1978): "Met hierdie boek lewer Elsabe Steenberg weer ’n kinderverhaal wat tegelykertyd ontroer en vreugde bring. Dit is die verhaal van die tienjarige Nelia wat in die kinderhuis is. Terwyl sy met vakansie saam met die Van Heerdens is, hardloop sy weg nadat hulle seun haar getreiter het. Sy gaan soek vir Renata wat sy by die dieretuin ontmoet het en wat in ’n skewe, geel huis woon waar sy ’n boek probeer skryf. (...) Alhoewel die verhaal eintlik ’n kinderverhaal is, is dit die soort verhaal wat enige volwassene met lus kan lees juis omdat die normale sentimentele gegewe op so ’n nugter, onsentimentele wyse aangebied word en veral omdat die karakters so uiteenlopend is. Dit is ’n besondere verhaal." (Hilda Grobler, Hoofstad, 27 Julie 1978)
- Eendoring met lang bene (1979 - 1ste prys Tafelberg/Sarie Marais meisieverhaalwedstryd (12-15 jaar)): ”Elsabe Steenberg is een van daardie rare skryfsters wat die siel van die jong kind werklik kan peil en met oorgawe, oortuiging en insig oor die konflikte wat die kinders tydens die grootwordproses deurmaak kan skryf. Eendoring met lang bene is geen uitsondering nie: elke meisie, wat die rabbedoe-stadium deurgemaak het, weet presies hoe voel Niek, wat dolgraag Nicolo wil wees noudat sy wéét dat sy ’n meisie is en noudat sy lus het om die dinge wat al die ander meisies doen, ook te doen."(Hilda Grobler, Hoofstad, 30 Augustus 1979)
- Soek-soek op soek (1980): "Daar bestaan min inheemse fantasieverhale in Afrikaans. Daarom kan hierdie bydrae van Elsabe Steenberg verwelkom word, al slaag dit nie volkome nie. Saam met haar kabouter soek-soek die skryfster die pad wat na wonderland loop. Daar word egter nie ’n duidelike beeld van die kabouters en muise se omgewing en leefwyse geskep nie omdat hulle selde meer word as nogal rare muise. Die menswêreld bly ook te prominent. Maar ondanks die besware is dit ’n genietbare boeke wat geskik is om voorgelees te word aan kleuters." (Rita Gilfillan, Beeld, 13 Oktober 1980)
"Dis eintlik ’n realistiese fantasie, want werklikheid en verbeelding is só fyn vermeng dat die leser onwillekeurig sal begin oë oophou vir hierdie pragtige, rondsagte en beminlike wesentjies: kabouters! Die verhaal is boonop opgebou rondom ’n aardige feit: Muise wat gifpille sorgvuldig wegbêre, sodat hulle 'kos' vir die winter kan hê! Saam met die skryfster raak ’n mens lief vir die klein groepie kabouters wat die Slag van die Bruin Bos oorleef het. Mens raak só vasgevang in hul verskriklike stryd teen die muise en doodgewoon om voortbestaan dat jy oor hulle soos oor jou kinders voel. (...) Die taalgebruik is fris en beeldend. Cora Coetzee, die illustreerder, som haar ervaring van die boek só op: 'Kabouters se gestalte het ek in my verbeeldingswêreld gaan soek. Die wêreld waar ore regtig kan hang van droefnis en tone heeltemal omkrul van plesier. Dis juis in hierdie heerlike versmaaiing van die logika waar die plesier van kabouters teken vir my lê.' Dis nie net die kabouters wie se tone van plesier gaan omkrul nie, maar elke leser s'n, want dis werklik ’n pragtige verhaal en ’n boek om te besit." (EV, Volksblad, 26 Augustus 1980)
- Boom bomer boomste (1980, met heelwat herdrukke; wenner van die Sanlamprys-jeugverhaal van die jaar): "Dit is die verhaal van ’n jong meisie wat daarop aandring om na haar oupa (inwoner van ’n groot bos en skrywer van die mooiste kinderverhale waarin daar nie dwergies nie, maar robyne was en waar Kgatala die heel lelikste heks was) toe te gaan waar hy in die hospitaal lê. (...) As skrywer van jeugverhale is Elsabe Steenberg sonder weerga." (Hilda Grobler, Hoofstad, 11 Desember 1980)
"Deel van die trefkrag van Steenberg se boeke is die klem wat val op die nie-konvensionele kindkarakter, en dat sy daarin slaag om die vitaliteit van die jeugdige te verwoord: die onsekerheid én die lewensblyheid, die opstandigheid én die uitspattigheid, die alledaagse van die skooldag én die fantasie van die wensdroom. (...) In die geheel weerspieël hierdie verhaal besondere insig en meegevoel met die leefwêreld van die jeugdige, én toon dit die vermoë van die skryfster om daardie insigte boeiend oor te dra." (Henriette Roos, Beeld, 1 Desember 1980)
- Waar is Pappa se panfluit? (1981): "Heska du Toit is tien jaar oud en word getreiter deur die probleme waarmee ’n kind van haar ouderdom seker normaalweg te doene kry. Sy is egter byna alles wat niékonvensioneel 'normaal' is nie. Ten spyte van alle regulasies weier sy om aan sport deel te neem, in die klaskamer verkies sy om alleen te sit, sy wil geen beste maat hê nie en nog nooit het sy gehuil nie, selfs nie toe sy op vierjarige ouderdom haar pa verloor het nie. So word Pippelpan geskep wat sy deur haar pa leer hoor en sien en wat haar enigste vertroueling is. (...) Ons lees dus ’n verhaal van rebellie, aanpassing en aanvaarding; van ’n eenkant-kind wat leer om haar besondere fantasiewêreld te laat inpas by die alledaagse doen van die groep waaraan sy behoort." (Henriette Roos, Beeld, 27 Julie 1981) Rita Gilfillan (Vaderland, 29 Oktober 1981) skryf dat hierdie boek die suiwerste en die een met die meeste deernis is wat sy nog van Elsabe Steenberg gelees het: Die kaleidoskoop het in ’n harmoniese en mooi patroon geval.
- Hendri uit die water (1984, met ’n hele paar herdrukke): "Elsabe Steenberg beskryf die emosionele stryd wat ’n pleegkind en haar 'gesin' ervaar. Hendrina word in pleegsorg geplaas by ’n gesin en sukkel om normaal aan te pas. Die lede van die gesin weet ook nie mooi hoe om op te tree nie. Hendrina skep ’n denkbeeldige persoon, Hendri, waarmee sy uiting aan haar gevoelens gee. Die styl is eenvoudig en lees maklik. Dit beeld Hendrina se gevoelens baie goed uit. Die boek is hartroerend, maar tog nie te sentimenteel nie." (Maia Grotepass (14 jaar), Die Vaderland, 7 Januarie 1985)
- Eendag die blou voël (1985 – in Engels vertaal): "Hierdie is ’n sonderlinge kinderboek waarin Elsabe Steenberg nie net ’n boeiende en oorspronklike sprokie vertel nie. Sy ondersoek ook die verhouding tussen goed en kwaad, tussen aggressie en mensliewendheid, tussen oorlog en vrede. Elsabe Steenberg het nie net ’n boeiende en oorspronklike sprokie vertel nie, sy ondersoek ook die verhouding tussen goed en kwaad, tussen aggressie en mensliewendheid, tussen oorlog en vrede. Op een vlak het jy te make met Elfie, ’n gevoelvolle meisietjie wat bewus word van die bestaan van Eendag, ’n wonderlike blou voël wat haar fassineer. Terselfdertyd word sy bewus van Geelkat, ’n kwaadwillige kat met duiwelse oë wat nie net vir Eendag nie, maar ook Elfie se gesinsgeluk wil vernietig. (...) Steenberg het herkenbare werklikheid en fantasie fyn en effektief vermeng in hierdie besondere sprokie. Die meeste kinders van onder nege behoort daarby aanklank te vind. Die taal is eenvoudig, gestroop en poëties. Sy vermy egter die simplistiese." (Barrie Hough, Beeld, 6 Januarie 1986)
- Wêreld in en wêreld deur (1988): "Dit is ’n ongewone boek met ’n ongewone titel. In hierdie jeugverhaal leer die leser die wêreld van die Ooste en die Weste ken, asook van verskillende rasse en gemeenskappe, verskillende godsdienste, vooroordele, konvensionele geneeskunde met al sy moderne insigte en die gehoonde radionika wat ook ’n sesde sintuig verg, die alombekende realiteit en die metafisika. Dit is wesenlik ’n boek oor verdraagsaamheid en aanvaarding, wat uitkring vanuit die ervaringe van die hoërskoolmeisie Monika, wat skielik een nag verlam raak. In haar gesin is daar haar ma wat bereid is om nuwe dinge te beproef, haar intellektuele pa wat alles rasioneel benader en haar tweelingbroer, Meindert, wat die skakel met ’n Indiërgesin is. (...) Die boek vertoon die kuns van ’n geoefende, vlot verteller wat literêre konvensies ken en dit kan hanteer. Die karakters vind dit maklik om hul gedagtes en emosies te verwoord en ’n mens vind by hulle ook ’n kits-insig in mekaar se persoonlikhede en motiewe. Of hulle werklik as mense in die wêreld van hierdie werk oortuig, sal die leser maar self moet oordeel. Dit is interessante leesstof wat veral tref deur die oorspronklike en ongewone tematiek." (Lydia Snyman, Volksblad, 2 Julie 1988)
- Masilo en die monster (1988): "Dit is ’n juweel van ’n boek wat gegrond is op die landelike, hoewel daar verwys word na die stad, en dan in ’n bose konteks. Soos in baie tradisionele sprokiesverhale het die fantasie-element te make met die 'bos' – in dié geval die bos waardeur Masilo huis toe loop van die skool af. Hy loop en tel en hoewel hulle in die skool geleer tel het tot by tien, kan hy net tot by ses tel. Hy stamp sy toon teen ’n pratende klip wat hom waarsku dat ’n monster met tien koppe vir hom in die bos lê en wag. Die klip bied hom beskerming teen die monster. Daar vind dus onmiddellik polarisasie plaas – die monster is boos en die klip goed. (...) Wat konstruksie betref, is Masilo en die monster ’n vreugde en verteenwoordig dit Steenberg se skryftalent op sy beste." (Lydia Snyman, Volksblad, 2 Julie 1988)
- Môre was dit somer (1990): "Met hierdie boek toon Elsabe Steenberg weer aan dat die kind en fantasie vir haar twee dinge is wat saamgaan. Sy skep weer ’n 'geloofbare' fantasiekarakter in die vorm van ’n grys drakie so groot soos ’n bulhond wat sy opwagting maak by die negejarige Stefan wie se ma die vorige somer dood is. (...) Wanneer kinderboekskrywers fantasiekarakters in ’n verhaal laat optree, sorg hulle meestal dat daar ’n duidelike skeiding tussen die fantasiewêreld en die werklikheid is. Die fantasiewêreld begin gewoonlik as die kind gaan slaap of die karakter bestaan net in die kind se verbeelding. In hierdie verhaal slaag Steenberg op ’n baie vernuftige wyse daarin om fantasie en werklikheid te vermeng. Grysie verskyn nie net saans nie en boonop is daar van die ander karakters wat hom ook sien. (...) Elsabe Steenberg slaag in ’n besondere mate om fantasie in die verhaal konsekwent en aanvaarbaar met die werklikheid te vermeng." (TB van der Walt, Beeld, 15 Oktober 1990)
- Ken jy die weerligvoël? (1990): "Die negejarige Donna het albei haar bene in ’n motorongeluk verloor. Sy kan die finaliteit daarvan nie ervaar nie en soek na ontvlugting in die verhaal van die weerligvoël wat Thomas vir haar vertel het. Met ’n kinderlike geloof wil sy glo aan hierdie voël wat rondvlieg as daar weerlig is en dan wonders doen soos om haar bene weer te laat aangroei. In teenstelling met dié ietwat somber gegewe, is die verhaal van Donna op die ou end heel positief. Op ’n aangrypende manier word vertel hoe Donna tot die besef kom dat ontvlugting nie gaan help nie, maar dat sy haarself moet help deur te aanvaar hoe sy nou is. Sy moet leer om met haar gebrek oor die weg te kom, soos die afpootlyster wat sy gereeld in die tuin sien, geleer het. (...) ’n Mens het baie medelye met Donna, maar dit word nooit emosioneel nie. Die skrywer sorg vir ’n pragtige uitbeelding van die gemoedstoestand van ’n gestremde kind. Sy beskryf nie die situasie nie, sy kruip in haar karakter en vertel wat ervaar word." (Thomas van der Walt, Beeld, 9 Maart 1992)
- Kariena Karyn (1992): "Slaaptydvrese en spesifiek ’n vrees vir die donker is nie ongewoon by kleuters nie. Dikwels is ’n terapeutiese slaaptydstorie die aangewese medium om ’n veilige en geborge atmosfeer te skep vir ’n rustige nag. Presies so ’n boek in Kariena Karyn. (...) Steenberg se ritmiese, allitererende teks word stewig ondersteun deur Alida Bothma se sensitiewe volblad-illustrasies." (Marina le Roux, Die Burger, 15 Desember 1992)
- Skuilte tussen riet (1992): "Af en toe verskyn ’n boek wat jou tot stilstand dwing. So ’n boek is Skuilte tussen riet. Die leser, selfs al is hy lank nie meer die 'jong volwassene' waarvoor die novelle volgens die flapteks bestem is nie, raak so betrokke by Leenster se oorlewingskrisis dat hy ietwat oorbluf en gedreineerd anderkant uitkom. Leenster, ’n 16-jarige meisie, word deur haar pa verkrag wat daarna selfmoord pleeg. Dié daad is die sentrale (en buitengewone) gebeurtenis wat so eie aan die novelle is. Dit dompel haar meteens in ’n omvattende eksistensiële krisis, ook tipies van dié genre. In haar groeiproses speel ’n kanarie ’n kardinale rol. Hy word die 'sielkundige' wat Leenster van meet af aan weier om te sien. Wanneer die kanarie deur ’n rot opgevreet word, bewerkstellig dit Leenster se uiteindelike verlossing. (...) Dit is ’n digte en ryk teks, een van Steenberg se sterkste tot dusver." ((Gretel Wÿbenga, Beeld, 5 April 1993)
- Hopgalop oor die blink water (1993): "Dit is ’n verhaal wat beslis in die leessmaak van kinders tussen agt en 12 jaar gaan val. Die storiegegewe staan voorop en hier gebeur genoeg om selfs die onwilligste leser aan die lees te hou. Dit handel oor Tomtom, ’n alleenkind wat saam met sy ma in ’n klein woonstelletjie bly terwyl hy glo dat sy pa ’n stuurman van ’n veerboot op die Donau is. Hy gaan bly op sy oom Simon se boot wat hy Hopgalop doop en daar skep hy vir hom ’n kammawêreld. (...) Die verhaal word nie aangebied as ’n blote fantasiereis nie. Dit is eerder ’n verbeelwêreld wat hier geskep word – ’n verbeeldingsvlug waarin die leser ook kan glo. Die verhaal slaag dan veral omdat die verbeelwêreld nie voorgehou word as iets waarvoor ’n mens dalk te groot kan wees of waarin net kinders kan glo nie. Dit is min dat ’n boek so heeltemal die kol tref vir sy teikenmark." (Leentjie Theron, Beeld, 26 Januarie 1994)
Oor die kind en boeke het Elsabe Steenberg aan Elfra Erasmus (Beeld, 3 September 1992) gesê dat ouers kinders van kleins af moet lief maak vir boeke. Sy self het vir haar kinders begin stories lees voordat hulle twee jaar oud was en vir haar een seun bly lees totdat hy elf jaar oud was – net omdat hy so baie daarvan gehou het.
"’n Kind betree ’n boek soos hy die wêreld betree, dit word deel van sy ervaring van die lewe. Kinders het sprokies en fantasie besonder nodig. In sprokies is daar altyd ’n element van geweld, maar dit word deurgewerk. Elke mens het geweld of woede in sy onderbewuste wat deurgewerk moet word.
"Fantasie bevat gewoonlik ’n dieper waarheid en is nodig om ’n kind gebalanseer groot te maak. Kinders wat daarsonder grootword, ontspoor maklik. ’n Mens kan amper sê wat bly oor as daar nie fantasie is nie. Sonder fantasie is die lewe so eendimensioneel.
"Ek gril daarvoor as stories ’n les bevat. Stories moet ’n kind laat groei omdat dit oorspronklik anders is. Dit moet nooit ’n versuikerde preek wees nie. Dis juis hoekom ek vir kinders skryf – omdat hulle eerliker is as volwassenes. Die terugvoer wat ek van kinders kry, is heerlik. Omdat hulle so eerlik is, sal hulle nie aan my skryf as hulle nie werklik die boek geniet het nie."
Titels was in Elsabe Steenberg se hele skryfloopbaan baie belangrik, het sy aan Marina Möller (Saffier, Maart 1995) vertel. "’n Storie kry nie koers voordat ek ’n titel het nie. En dit verg tyd en baie dinkwerk voordat ek uiteindelike gelukkig is met die boek se naam. Daarmee loop ek in my agterkop en skommel-skommel aan die storie in my gedagtes."
Benewens al haar boeke vir kinders en jongmense het Elsabe Steenberg ook ’n bydrae gelewer tot die volwasse roman in Afrikaans. In 1972 verskyn haar roman Rondomtralie in boekvorm nadat dit ’n baie gewilde vervolgverhaal in Sarie was en verfilm is onder die titel Salomien. Dit is ook in 1984 in die radioprogram Vrouerubriek voorgelees. Dit het etlike herdrukke beleef.
Dit is die verhaal van Salomien Wiid wat nadat sy haar man, ’n teologiese student, vermoor het, aan moord met versagtende omstandighede skuldig bevind is en tronk toe gestuur is. Die lewe in die gevangenis is vir Salomien baie swaar. So ook die lewe saam met die ander gevangenes en personeel. Maar die swaarste en pynlikste is dat sy met haar eie gewete moet saamleef. Want daardie nag het nie net ’n drastiese verandering in haar lewe meegebring nie, maar ook in die lewens van haar familie. Ook haar verhouding met God het in die gedrang gekom. Vir René Marais (Vaderland, 7 Januarie 1985) is die roman boeiend en goed geskryf.
Engel met ’n besemstok is in 1975 uitgegee en was ook ’n baie gewilde vervolgverhaal in ’n tydskrif. Dit gee ’n ontroerende uitbeelding van ’n kind, Hannele, wat op die punt staan om die volwasse wêreld te betree. Maar sy het nie in ’n "normale" huishouding grootgeword nie. Haar moeder trek haar jonger boetie voor en sy voel al hoe meer soos ’n las vir haar ma. Sy begin vir haar moeder leuens vertel en plaas haarself so al hoe meer onder druk. Ook haar ma het ’n skuldgevoel omdat sy moes trou en Hannele haar altyd daaraan herinner.
Anna van Zyl (Volksblad, 24 September 1975) was van mening dat "oorsaak en gevolg heg vervleg is in die boek en dit word uiteindelik die bose sirkel waaruit daar nie wegkomkans is nie. Hierdie kind met haar verlangens, behoeftes en begeertes wat in haar volslae onskuld oor opgroei en voortplanting in opstand kom teen haar eie ontwakende lewe, haar eensaamheid en wantroue in haar ouers, haar ontstellende behoefte aan liefde word in Engel met ’n besemstok oortuigend beeld van die leed en pyn van ’n kind se kennismaking met die lewe met al sy leuens en bedrog.
"Die elfjarige kind se worsteling kry suiwer en oortuigend gestalte in Hannele. Haar wrokkigheid en onmag lees jy af in haar taalgebruik en weerbarstigheid. Intussen sien jy haar aan met die grootste mededoë, want Elsabe Steenberg gee hierdie sielkundige oopvlekking op subtiele wyse. Die boek het ’n sterk boodskap sonder om ooit didakties te wees. Die hele gestaltegewing is deurdronge van die boodskap dat ’n kind so word en so ly as ouerliefde en wedersydse vertroue in die huis ontbreek. Die boek gryp aan en prikkel tot denke."
Met Deur ’n raaisel (1984) betree Elsabe Steenberg die wêreld van geloofgenesing. Deirdre en James, ’n predikant, is vir sestien jaar redelik gelukkig getroud. Hulle het egter nie kinders nie aangesien Deirdre vanweë haar hartprobleem nie mag kinders hê nie – dit kan haar dood beteken. Sy besluit om geloofgenesing te probeer nadat ’n geloofsgeneser haar grootmaakma gesond gemaak het.
"Die verhaal is nie eenvoudig nie," skryf Cecile Cilliers in Die Burger (12 Julie 1984). "Nie in die karakters of hulle onderlinge verhoudings nie, nie in die oplossings of gebrek aan oplossings nie. Daar word wel ’n saak vir geloofsgenesing uitgemaak, maar nie ten koste van die kerk of die mediese wetenskap nie.
"Elsabe Steenberg hanteer haar problematiese stof met ’n seker hand. Sy draai dikwels kort duskant melodrama en sentimentaliteit om, maar gesien die materiaal wat alles in die roman verwerk word, kan ’n mens slegs haar seker aanslag bewonder. Dis ’n goed geïntegreerde roman: elke karakter, elke gebeurtenis dra by tot die versterking van die hoof-intrige. En Steenberg maak vlot gebruik van allerlei styltruuks om haar stof te laat boei."
Elsabe Steenberg het ook haar hand aan die kortverhaal gewaag en in 1980 verskyn Wildegans, wildegans waar die gesin die middelpunt van die verhale is. Anna van Zyl (Volksblad, 17 April 1980) het gemeen dat dit ’n boek vir die fynproewer-leser is en dat dit herhaaldelik gelees kan word omdat dit elke keer eerliker, meer oortuigend en meer bekoorlik voorkom.
Die resensent in Tempo (18 April 1980) skryf as volg: "Die fyn kunstenaarskap van hierdie bundel kan nie oorbeklemtoon word nie, nie net omdat dit so maklik lees en tog so ryk is nie, maar ook omdat dit ’n mens tot nadenke stem en jy opnuut na jou eie lewe kyk, opnuut jou medemens beskou en met ander oë na die vloei van die lewe kyk – die vlug van die wildegans."
Haar liefde en belangstelling in die kind en sy boek het gelei tot die publikasie van My kind en sy boek (1979) en Fantasie en die kinderboek: ’n kernhandleiding (1988). Dan het haar siekte die publikasie van Twee hang bo die pad, vier loop op die mat (1979) tot gevolg gehad. Die titel verwys na haarself en haar rolstoel.
Annie Schumann (Oosterlig, 19 Julie 1979) skryf dat hierdie boek ’n rekord is van "menslike moed in die stryd teen die verwoestende, verlammende siekte, verspreide sklerose. Sy skryf met ervare vakmanskap, eenvoud en eerlikheid, en bowenal met helende humor."
Ook Hilda Grobler (Hoofstad, 12 Julie 1979) was positief oor Twee hang bo die pad: "Dit is ’n besondere, gebalanseerde vertelling en verduideliking van ’n lewenswyse waarvan ’n mens baie min weet en waarmee ’n mens selde te doen kry. Die vertelling is nêrens selfbejammerend of sentimenteel nie - Elsabe Steenberg het haar toestand aanvaar en skryf op nugtere, objektiewe, dog sonderlinge wyse daaroor."
Op 14 Mei 1996 is Elsabe Steenberg in die ouderdom van 58 jaar oorlede ná haar jare lange stryd teen haar aftakelende siekte. Sy word oorleef deur haar man Dawie en haar vier kinders, Adriaan, Ilse, Erika en Conrad.
Huldeblyke:
- Sarina Dönges: "Ek het lank gewag vir ’n boodskap van haar wat soos ’n faks uit die hemel sou kom en waarin waarskynlik iets soos die volgende sou staan: 'Oh, everything was a bird and the singing will never be done.' Sy is egter te besig om te loop op al die hemelse plekke, in haar hemelse seisoen van genade. Saam met die engele waarvan sy so bewus was. Ons wat haar vriende was, voel asof ons haar in vele opsigte gefaal het. Sy, die gebrokene, was soveel meer mens as wat ons ooit sal kan wees. Dostoevsky het gesê: 'There is only one thing I dread: not to be worthy of my sufferings.' Elsabe was waardig vir die drag swaarkry. Op 4 April 1997 kon ek vir die eerste keer sover kom om haar graf te besoek. Op die steen staan: 'God het my lot verander.' " (Finesse, Maart 2000)
- Sarina Dönges: "Ek dink nie terug aan haar as voortreflike skrywer, of gewaardeerde resensent, of geliefde akademikus nie. Ook nie as familielid of vriendin nie. Na aanleiding van iets wat Ferdinand Deist geskryf het oor broederskap, het sy besluit ons is mekaar se 'broers'. Oor my 'broer' Elsabe wil ek sê: sy was die boomste mens. ’n Koelteboom as die lewe skroei; ’n skuilplek vir vele. Sy sou die koue en storms verduur ter wille van ’n beter lewe vir ’n medemens. In haar eie woorde: 'Dis tog waaroor dit vir my gaan - om ander te help.'" (KOMSAT, September 1996)
- Marina le Roux: "Elsabe Steenberg was tot aan haar dood volledig mens, in diens van haar medemens. Sy was lief vir mense en lief vir lees: Patrick White was ’n gunstelingskrywer. Sy het nooit moeg geword vir Mozart en Brahms nie en musiek en die poëtiese woord is tekenend van haar boeke. Toe sy in Mei verjaar het, het my studente haar gelukgewens. Ten spyte van pyn en fisieke ongemak, antwoord sy op hul goeie wense: ‘Deesdae werk my hande hoogstens vir een uur per dag. Dan maak hulle toe.' Genadiglik het haar hande en haar hart nooit toegemaak vir die 'avontuur met die woord' en vir 'dié weë na die hart' nie." (Afrikaans Stereo: Skrywers en Boeke, 23 Mei 1996)
- Leentjie Theron: "Elsabe Steenberg sal onthou word as die jeugboekskryfster wat sonder skroom oor ’n moeilike wêreld vir tieners geskryf het, maar altyd daarin geslaag het om uitsig en visie vir die leser te bewerk. Vir haar het die veral gegaan om die innerlike mens en sy vermoë om oor omstandighede te triomfeer. (...) Miskien sal ons almal wat haar geken het, haar onthou en bly liefhê omdat sy by die werklikheid verby kon leef, en soos Tomtom in haar laaste jeugboek Hopgalop oor die blink water (bladsy 8) kan glo: ‘Kamma is ’n ander soort rêrig, sê Ma altyd. Dis nie nonsens nie, enige mens het dit nodig en moet oefen om te kamma.'" (Taalgenoot, Augustus 1996)
- Hans du Plessis: "As ek aan Elbie dink, sien ek nou nog die toegewyde mensie in haar laaste jare in haar studeerkamer. Jy kon maar daar gekom het wanneer jy wou, geklop, self oopgemaak en ingeloop het: sy was maar altyd daar voor die tikmasjien aan die werk. Altyd blymoedig, gelowig en positief gerig op wat sy nog gáán doen. Dit is die vermoë om iets deur te sien: om te doen wat jy menslik gesproke nie kán doen nie. ’n Maand en drie dae voor haar dood moes sy by die Herfsskool van die ATKV-Skryfskool optree, ’n lesing gee oor die skryf van kinderboeke. En sy het, want sy wou: 'Dit is hoe ek aan die gang bly.'
"Nou moet ek oor jou iets sê nadat jy weggeneem is om te gaan rus. En wat anders is daar om te sê as dat ek jou enduit bewonder het omdat jy enduit bly lééf het. En om te lees, was vir jou om te skep en te laat skep. Weet jy, ons treur omdat die Afrikaanse letterkunde armer is; ons is seer omdat ons ’n vriendin verloor het. Maar ek, ek het my voorbeeld verloor." (Volksblad, 17 Julie 1996)
- Thomas van der Walt: "'Ek is nie gepla om lank te lewe as ek dit met gehalte kan doen nie,' het Elsabe Steenberg by geleentheid gesê. Almal wat haar geken het, persoonlik of deur haar skryfwerk, sal saamstem dat 57 jaar nie lank genoeg was nie. Die omvang van haar literêre nalatenskap is aansienlik en sy sal veral onthou word vir die gehalte van daardie nalatenskap. (...) Sy het geglo dat elke mens ’n keuse het, dat jy positief kan kies, en solank dit die geval is, kan jy die lewe aandurf. Haar lewe en haar werk het dit uitgestraal. Hoewel sy 20 jaar in ’n rolstoel gekluister was en baie terugslae met haar siekte ondervind het, is haar optimisme en geloof in die lewe nooit gedemp nie. Sy was nooit ’n slagoffer nie. Die Suid-Afrikaanse kinderliteratuur is verryk deur die boeke wat Elsabe Steenberg nagelaat het. Haar bydrae tot die vestiging van kinderliteratuur as ’n volwaardige studieveld in Suid-Afrika sal eers in die toekoms na waarde geskat word." (Insig, Junie 1996)
- Franci Greyling: "Steenberg's books are original, fresh and imaginative. She shows a fine insight into the feelings of children and her characters are usually children struggling with problems. Yet her stories are never centred on morals, always on the child. (...) A month ago, during the ATKV's Autumn School for Writers, Steenberg shared her philosophy with students. A story, she said, should be indispensable. Though children's and teenager's situations could be full of darkness, the writer must show them hope as well. 'What you write is not easy,' she warned. 'But the action of writing must give you joy.' Steenberg's joy in writing will live through the many stories she wrote." (Sunday Times, 19 Mei 1996)
- Jacques van der Elst: "Haar vrugbaarste bydrae tot die Afrikaanse literatuur is ongetwyfeld haar kinder- en jeugboeke. Daar is ’n sterk religieuse onderbou in die meeste van haar werke. Elbie Steenberg het self in ’n artikel in dié verband gesê dat God die volmaakte Kunstenaar is en die mens as skrywer die herskepper en omvormer is van dit wat hy waarneem in die Godgeskape werklikheid. Immers, so het sy gesê, die mens kan woord gebruik, want God wat self die Woord is, het aan die mens woorde gegee om mee te praat, te vertel en te skryf. Daar is ’n inherente wisselwerking tussen haar lewe en haar werk. Vir Elsabe Steenberg wat oor byna 20 jaar die verlamming van haar liggaam ervaar het, moes die lewenskrag, die onbevangenheid, die beweging en die onskuld ’n inspirasie gewees het. Was dit haar gestremdheid wat juis dié dinge in die kind en die tiener raakgesien het? Miskien was dit vir haar wat so lank verlam was, ’n vreugde om te skryf oor kinders wat kan hardloop, huppel, spring, galop, wat altyd met oorgawe beweeg en uitgelate is. Dink maar aan Philla uit haar bekroonde boek Boom, bomer, boomste, wat ondanks haar tienerprobleme kan spring, kan hardloop en dans. (...) Haar heengaan is ’n gevoelige verlies vir haar gesin, maar ook vir Afrikaans." (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1996)
- Betsie van der Westhuizen: "’n Outeursidentiteit soos dié van Elsabe Steenberg was en is steeds vir verskillende mense om verskillende redes ’n inspirasie. Om haar boeke te lees met haar poëtika in gedagte, kan ’n (nog) ryk(-er) ervaring wees. Om haar oeuvre vanuit die invalshoek van die outeursintensie in haar poëtika op literêr-wetenskaplike te bestudeer, kan weer talle nuwe gesigspunte en interpretasiemoontlikhede losmaak. Om haar poëtika te oordink as die skryf van verhale as sodanig voornemende of gevestigde skrywers se fokus van belangstelling, maak van haar ’n muse.
"Haar nalatenskap is so groot dat in hierdie huldeblyk aan haar outeurspoëtika maar deur ’n klein skrefie van die deur na haar lewenskragtige skrywersgees en indrukwekkende oeuvre gekyk kan word. In die Suid-Afrikaanse letterkunde is Elsabe Steenberg ’n lesenswaardige, navorsenswaardige en navolgenswaardige naam." (Tydskrif vir Letterkunde, November 1996)
In ’n artikel wat Gretel Wybenga in 1993 in Tydskrif vir Letterkunde geskryf het, sluit sy haar skrywe af: "Want uiteindelik gaan dit by Steenberg om versoening met die onvermydelike of die anderse, nie deur bloot boedel oor te gee nie, maar met die insig en wysheid wat kom as jy, vergesel van baie genade op jou stekelrige pad, jou perspektief wyer kan maak as net jou eie twee oë. Haar papierkinders is almal begeesterd met ’n soort visie wat hulle nie laat tou opgooi nie. En só is dit ook met die mens, Elsabe Steenberg, gesteld. Al beleef sy daagliks vir baie jare die ongerief en pyn van liggaamlike gestremdheid, en al het sy steeds nie gekry wat beloof is nie. Het sy dit soos die gestorwe aartsvaders 'uit die verte gesien en daaroor gejuig' (Hebreërs 11:13)."
Publikasies
Onder die skuilnaam Elsabe Ryke:
Publikasie |
Dokter Amanda |
Publikasiedatum |
1967 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Aanklag teen Sinterklaas |
Publikasiedatum |
1968 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Onder Elsabe Steenberg:
Publikasie |
Die moerasloper |
Publikasiedatum |
1968 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Dat ek mag sien |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Jeugverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Tafelberg te koop |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
'n Padda is ’n ding wat spring: ’n komiese eenakter |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Dalro |
Literêre vorm |
Eenbedryf |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die heuningwolk |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Bergpad na Eden |
Publikasiedatum |
1969 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Tjeriktik in die denne |
Publikasiedatum |
1971 |
ISBN |
0799304239 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Rondomtralie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Rooi kanarie hoepelbeen |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Engel met ’n besemstok |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
0798104651 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Plek van die bruin geeste |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
0798105283 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Jeugboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
O, om te fluit! |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0799301361 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Pierewiet staan stil |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624006840 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Korrel en Kuif |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
0628008961 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Blou is ’n bokkie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Klawervyf |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
Literêre vorm |
Jeugboeke |
Pryse toegeken |
Wenner van JP van der Walt se jeugverhaalwedstryd as deel van Taalfeesjaar in 1975 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
An-Alleentjie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels 1989 - Ana-Lone |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Koert se tarentaal |
Publikasiedatum |
1978 |
ISBN |
0624011712 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Twee om te slaap |
Publikasiedatum |
1978 |
ISBN |
0624011216 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Wolf ja, wolf nee |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die uurwerk kantel deur Marié Heese |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0868740578 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
My kind en sy boek |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Literatuurstudie: kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Twee hang bo die pad, vier loop op die mat |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Outobiografies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kinderverhale van ses tot twaalf |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0868740519 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Eendoring met lang bene |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
1ste prys Tafelberg/Sarie Marais meisieverhaalwedstryd (12-15 jaar) |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Gebarste kruik en ander verhale |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0909231869 (hb) |
Uitgewer |
Voortrekkerhoogte: Makro |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Soek-soek op soek |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Boom bomer boomste |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
1980 Sanlamprys se jeugverhaal van die jaar |
Vertalings |
Engels 1983 - Tree more, tree most |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Wildegans, wildegans |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0798604697 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Waar is Pappa se panfluit? |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Simonetta en die spinnekop |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
0624017028 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Klein uurwerk: motief en handeling by die kind |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0869907247 (sb) |
Uitgewer |
Potchefstroom: Dept Sentrale Publikasies |
Literêre vorm |
Sielkunde |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
A time to know: living with multiple sclerosis |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0869782401 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Howard Timmins |
Literêre vorm |
Outobiografies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Deur ’n raaisel |
Publikasiedatum |
1984 |
ISBN |
0624020207 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Hendri uit die water |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624023796 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Pik=swart |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0798615168 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: De Jager-HAUM |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels 1985 - Crow Jack |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Van motho en van mens (oorspronklike titel: Korrel en kuif) |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0628028253 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Eendag die blou voël |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0798616482 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels 1986 - Someday the blue bird |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Goeie leesgewoontes: toegespits op volwassenes en die jeug |
Publikasiedatum |
1986 |
ISBN |
0869908871 (sb) |
Uitgewer |
Potchefstroom: PU vir CHO |
Literêre vorm |
Leesgewoontes |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Slapende honde miaau nie |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Fantasie en die kinderboek: ’n kernhandleiding |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0798623020 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
Literêre vorm |
Literatuurhandleiding |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Masilo en die monster |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
062701562X (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
1991 Maqhawe Mkhizi-HAUM-Daan Retief-prys vir kinderliteratuur |
Vertalings |
1988 vertaal Suid-Sotho, Xhosa en Zoeloe |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Wêreld in, wêreld deur |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
079862700X (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die boom wat wou loop |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
0798627042 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels 1989 - The wishful walnut |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Môre was dit somer |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
0798629959 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Ken jy die weerligvoël? |
Publikasiedatum |
1990 |
ISBN |
0624029875 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kariena Karyn |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
0627018017 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Engels 1992 - Katie Colly Wobbles |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Skuilte tussen riet |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
0798633000 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Hopgalop oor die blink water |
Publikasiedatum |
1993 |
ISBN |
0624028860 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
’n Maand van dertig jare |
Publikasiedatum |
19- |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Buren |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Elsabe Steenberg as vertaler:
- Mann, Thomas: Tonio Kröger. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1966
- Calpin, GH: Sjerrie in Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg, 1979 [ISBN0624012816 (hb)]
- Armitage, Ronda en Armitage, David: As Janet kon toor .... Kaapstad: HAUM, 1980 [ISBN 0798603852 (hb)]
- Paul, Anthony: Die tier wat sy strepe verloor het. Pretoria: HAUM, 1980 [ISBN 0798603860 (hb)]
- Troughton, Joanna: Skilpad se droom. Kaapstad: HAUM, 1981 [ISBN0798606231 (hb)]
- Elliott, Michele: Hou kop en sê nee! Kaapstad: Tafelberg, 1987 [ISBN 0624025403 (hb)]
- Parker, Carolyn: Heks van die hoogte. Pretoria: De Jager-HAUM, 1988 [ISBN 0798622253 (hb)]
- Bowling, Christopher en Protchard, Joy: 'n Draak kom na Jolledol. Pretoria: Juventus, 1990 [ISBN086816125X (hb)]
- Venter, Paul C: Sneeuwitjie en die koningin se wraak. Pretoria: Juventus, 1990 [ISBN 0868161594 (hb)]
- Stippe stappe stories. Pretoria: Van Schaik, 1995 [ISBN 0627020585 (hb)] (Wenner 1997 ATKV-kinderboekprys 3-5 jaar)
- Voetpad: stories vir Afrika. Pretoria; Kaapstad: Out of Africa; Maskew Miller Longman, 1993; 2006 [ISBN 0798633603 (sb); ISBN 0636070506 (sb)] (tweede uitgawe saam met Elise van Wyk)
- Voorlees vir nadink: 'n verhaalbundel vir kinders vir gebruik in laerskole en tuis. Kaapstad: Tafelberg, 1980 [ISBN 0624013782 (hb)]
Artikels oor en deur Elsabe Steenberg beskikbaar op die internet:
- Elsabe Steenberg
- Van der Westhuizen, ES: Die representasie van die visie in die verhalende prosa van Elsabe Steenberg
- Venter, Sarel: Waar rats die ribbok gaan ...: rondom briewe van Elsabe Steenberg
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Elsabe Steenberg (1938–1996) appeared first on LitNet.