Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 321

SV Petersen (1914–1987)

$
0
0

Gebore en getoë

Sydney Vernon (SV) Petersen is op 22 Junie 1914 in Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Hy is die tweede kind en die oudste seun van die gesin. Na hom is daar nog drie kinders. Sy pa was ’n tuiemaker en sy moeder die wegwyser van die gesin. SV Petersen beskryf sy pa as ’n “mensliewende en goedgeaarde man van persoon, hardwerkend en pligsgetrou” en sy ma as “ruim van hart, steeds vooruitstrewend”. Al die kinders bekwaam hulle later as onderwysers.

Oor SV Petersen se pa se herkoms en genealogie skryf Steward van Wyk in ’n LitNet Akademies-artikel (“‘Net domastrant vir spite’: Grepe uit die lewensgeskiedenis van S.V. Petersen”) dat daar in Die Landstem in 1962 ’n berig verskyn het oor ’n onderhoud wat met Sydney snr gevoer is. Oor sy pa beweer Van Wyk hierin as volg: “Sy vader was ’n Sweed wat ’n kind by die plaaslike tuiemaker verwek het. Weens die skande van die gebeure is die seun (Sydney snr) aan die huishulp gegee, wat hom aangeneem het.”

SV Petersen wou op die waarheid van hierdie gerugte ingaan en agterkom of daar enige waarheid insteek. In 1962 het hy besoek aan Uppsala in Swede gebring om die beweringe te ondersoek. Van Wyk skryf voorts: “Die antwoorde wat hy vermoedelik op sy navrae kry van onder andere die vikaris van Forshälla, word netjies oorgetik op die briefhoof van die Athlone Hoërskool. Hierdie dokumente bevestig dat Petersen se grootvader ene Christian Harald Kollén was wat tussen 1850 en 1880 na Suid-Afrika geëmigreer het. Kollén is gebore op die eiland Orust buite Bohuslan en word in die registers aangedui as ’n handelaar in Afrika. Uitvoerige gegewens word verder verstrek oor Kollén se voorvaders en sy naaste familie.

“Die gemeenskap van Riversdal het ’n sluier oor hierdie geskiedenis getrek en die Petersens se pogings om die identiteit van hul biologiese ma/ouma vas te stel, het voor ’n toe deur gestuit. Petersen se seun vertel dat hulle op ’n besoek aan Riversdal na die bruin nedersetting Melkhoutfontein buite Stilbaai gegaan het omdat die mense daar vermoedelik iets geweet het (SV Petersen, persoonlike onderhoud met Steward van Wyk, 2010). Dit het egter geen resultate opgelewer nie. Die misterie van sy herkoms resoneer egter in Petersen se skryfwerk.”

SV begin sy laerskoolloopbaan aan die plaaslike sendingskool, maar op twaalfjarige ouderdom verlaat hy Riversdal op aandrang van sy ma en gaan na Kaapstad. Sy hoërskooljare bring hy aan die Hoërskool Trafalgar in Kaapstad deur, waar hy as atleet uitblink.

In sy matriekjaar woon hy by eerwaarde Kohl van die Lutherse Sendingkerk in en “veel goeds het ek uit die karaktervastheid van hierdie man en sy gesin kon absorbeer”. (In ’n biografiese skets aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum [NALN]). Hy matrikuleer in 1931.

Hy skryf reeds poësie op primêre skool. Sy ambisie as jong seun was egter om ’n skilder te word. (In ’n biografiese skets aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum [NALN])

Verdere studie en werk

Vanaf 1932 tot 1933 woon SV die Battswood Opleidingskollege in Wynberg (in die Kaapse suidelike voorstede) as kwekeling by. Hy vertel self dat atletiek, rugby en die algemene studentepret vir hom op daardie stadium belangriker was as ernstige studie. Sy opleiding aan hierdie kollege was meestal in Engels.

Sy eerste onderwyserspos was in Ladismith in die Suid-Kaap. In 1939 begin hy as sekondêre assistentonderwyser in Distrik Ses aan sy alma mater onder eerwaarde Kohl. In Kaapstad is dit vir hom moontlik om buitemuurs klas te loop aan die Universiteit van Kaapstad, en hy behaal sy BA met Afrikaans, Engels en Wiskunde as hoofvakke. Met die verkryging van sy BA-graad ontvang hy ook die Universiteitsmedalje vir bevoegdheid in Afrikaans. Tussen al sy bedrywighede studeer SV Petersen weer verder en verwerf in 1968 sy B Ed-graad aan die Universiteit van Kaapstad. (Rapport, 1 April 1984)

Hy word later hoof van die primêre afdeling van Battswood en in 1947, op 33-jarige ouderdom, word hy aangestel as hoof van die nuwe Hoërskool Athlone met 87 standerd 7-leerlinge, ’n pos wat hy beklee tot sy aftrede in 1974. Na sy uittrede help hy uit by die Opleidingskollege Hewat en in 1981 is hy na die Onderwysopleidingskollege in Bellville, waar hy tot 1983 “nog besig was met onderwysers wat hulle kwalifikasies wil verbeter”.

SV Petersen trou met Mavis, ’n onderwyseres, en die egpaar het een seun, Sydney, wat argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad studeer het.

Petersen was ’n berese man. In 1959 besoek hy die VSA op uitnodiging van die VSA-SA-leiersprogram. Hy bied lesings in New York en Chicago aan oor die poësie en oor Afrikaans. Toe hy sy verslag moes skryf, merk sy gashere dat hy dit met die hand doen en nie oor ’n tikmasjien beskik nie. Hulle stuur hom na ’n winkel waar hy vir hom ’n tikmasjien kon gaan uitsoek, en in 1987 het hy nog steeds op hierdie 1959-model Antares Parva getik.

Hy besoek ook Ghana, Israel, Griekeland en Turkye. In 1960 is hy na Duitsland met ’n toekenning van die Duitse regering om opvoedkundige instellings daar te gaan besoek. Op dieselfde toer bring hy ook tyd in Nederland deur as gas van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging. In 1969 is hy en prof Richard van der Ross na Brittanje om opvoedkundige instellings daar te gaan besoek.

Vanaf 1941 word van sy gedigte sowel as kortverhale in tydskrifte soos Naweek, Suid-Afrika en Die Huisgenoot gepubliseer.

In 1944 word SV Petersen se eerste digbundel, Die enkeling, deur Unie-Volkspers gepubliseer. In Suid-Afrika (Mei 1944) is FPVDM die resensent en hy is heel beïndruk met hierdie debuutbundel: “Die verdienstelike gedigte van hierdie skrywer waarmee ons reeds in verskeie tydskrifte kennis gemaak het, het so pas in bundelvorm verskyn. Hoewel dit die eersteling van die skrywer is, moet dit nie alleen as ’n vernuwing, maar ook as verryking verwelkom word. Hier is iets tematologies gegee wat ons poësie nog nie geken het nie (sekere gedigte van Van Wyk Louw word nie uit die oog verloor nie) en wat maar hier en daar in ons prosa deurslaan. Die saak van die nie-blanke, en meer bepaald dié van die Kleurling, het die digter tot poësie omgeskep. Menslik aangrypend is die verwoording van dié mense, of ten minste die fynbesnaardes onder hulle, se gekrenktheid en opstandsdrang in magteloosheid.

“Dit alles geskied in wat jy ’n ‘basiese’ woordeskat kan noem. Die poësie van veral WEG Louw en Ernst van Heerden dra die spore van die Nederlandse taalinvloed wat hulle ondergaan het in so ’n mate dat dit plek-plek as byna on-Afrikaans aandoen. Dit dreig dikwels om presieus te word. Petersen daarenteen soek verfyning van sy uitdrukkingsvorm nie langs hierdie weg nie, maar gebruik die alledaagse Afrikaanse woord, feitlik die omgangstaal, op die persoonlike en evokatiewe manier wat kensketsend is van wie waarlik digter is.”

Die enkeling bestaan uit vier dele: In die eerste een kom die opstandsmotief na vore; in afdeling twee word die natuur, doodsgedagtes en verlore liefde behandel en vir FPVDM is afdeling drie die belangrikste waar die digter ’n universele tema tot ontroerende poësie laat groei: “Wrange aanklagte uit die Kleurling se oogpunt, miskien heeltemal gegrond, ontroer hier deur hul eenvoud en onmiddellikheid. Sulke gedigte het ’n verlossende boodskap aan die mensdom.

“Heimwee, natuurbewondering en verlange na sy kinderdae, het Petersen in die laaste afdeling behandel. Dit is ‘ou onderwerpe’ in die Afrikaanse poësie, maar Petersen sê dit nuut. Gebreke sou ’n mens kon aanwys in die bundel, maar waar ’n ruimte so beperk is, wil jy van so ’n belowende eersteling liefs ’n waardering as ’n ‘kritiek’ gee. Ten spyte van gebreke kan egter besluit word dat dit ’n aanwins is.”

FEJ Malherbe bespreek Die enkeling vir Ons Eie Boek (September 1944) en by aanvang van hierdie resensie wys hy op die gebreke in hierdie bundel soos dat die gedigte te rou is, die banale rym, die retoriese woord, ’n ritmiese hindernis en so meer. “Maar met dit alles moet ook gesê word dat daar wesenlike digterlike talent in die bundel aan te tref is, soos blyk uit die volgende gedig:

Bede

Laat dit dan wees, O Heer, dat ek
’n Duisend jaar gelee teen God
En mens gesondig het ...
Dan weet ek nou, op U bevel
Is hierdie skurfte blootgestel:

In watter dieptes, stankbesmet
En met verrotte slym besmeer
Het ek nie daar versleg
Dat selfs U, Heer, van my moes wyk ...
My nie wou reinig van die slyk?

Laat my dan maar soos Lasarus
Tevrede wees, met streling van
Elk honger honde-tong;
Dan weet ek tog, dis U besluit,
Die vloekstraf van die donker huid.

As dit U straf is, dat ek so
Moet ly, dan wil ek swyg, o Heer;
Leer my berusting dan;
Laat my dan maar my kruisweg gaan,
Tot waar ek voor die donker staan ...

“Petersen het ’n bepaalde individualiteit van segging, en al is sy werk geen prismatiese poësie met fonkelende (sic) beeld en ryke klankplastiek nie, is daar tog dikwels ’n dwingende ritme en beweeglikheid van siening wat dan in die egtheid van die eenvoudige woord oortuig as poësie. Daarvan wil ek meer hoor. (...) Dus dwing die bundeltjie ons aandag af. En te meer omdat sy egtheid van aanvoeling van die kleurlinglewe ’n bepaalde tekortkoming in ons literatuur kan aanvul.”

SV Petersen se enigste roman word in 1945 gepubliseer deur Unie-Volkspers onder die titel As die son ondergaan en dit word bekroon met die Unie-Volkspers-prys. Dit is in ’n beperkte opgawe uitgegee en is in 1950 deur Maskew Miller heruitgegee nadat dit vir ’n hele lang ruk uit druk uit was.

Die roman raak die probleem aan van ’n begaafde jong bruin man wat sy heil in die stad gaan soek en daar redelik ontspoor. Maar hy vind later weer homself.

George Manuel bespreek As die son ondergaan vir die Cape Times (11 November 1950 en 4 Januarie 1956): “In his novel, Petersen shows that he has a rare mastery of the Afrikaans language. His style is lucid, fluid and descriptive. Perhaps what is most interesting is his ability to reproduce the characteristic pieces of the Cape Coloured and Cape Malay peoples. In this respect Petersen excels. There is nothing quite like it in the Afrikaans language.

“The publication of As die son ondergaan in the opinion of Dr WJB Pienaar, was more than a literary event, for it won for itself an immediate position in the list of Afrikaans classics.”

In 1956 skryf Manuel: “Mr Petersen writes with a facile pen. The dialogue of the characters is rich with the idiom and charm of the Coloured and Malay groups. The humorous conversations pieces so characteristic of these people, are reproduced in a masterly manner. (...) Those who like fine writing in Afrikaans and colourful characters in a setting that few outside the group really know, will find much in this novel.”

Petersen se volgende bundel, Die stil kind en ander verse, verskyn in 1948 by Maskew Miller. Vir Ernst van Heerden (Die Burger, 19 Junie 1948) bring hierdie nuwe bundel “weinig nuwe aspekte van Petersen se digvermoë na vore. Die verse het meestal nog die matte, kleurlose gang, maar hulle is fragmentarieser as in die eerste bundel. Die digter is nog te lukraak met sy hantering van die taal. (...) Die digter se probleem is diepgrypend (in sy lewe en in ons volkslewe) en moet die meegevoel van elke simpatieke leser wek, maar hy moet nog leer om met taaie geduld die essensie van sy boodskap in suiwerder vorm te projekteer sodat sy noodlot ons ‘as poësie’ kan roer.”

En in Volksblad (9 Oktober 1948) sluit B Kok sy bespreking van Die stil kind en ander verse só af: “Petersen is ’n digter wat nog worstel met sy vormgewing wat nog nie tot ’n afgeronde, eiesoortige ekspressie gekom het nie. Maar by al sy skorheid is sy stem dié van ’n mens wat diep en fel beleef. ’n Mens kry die indruk dat hy tans besig is om te eksperimenteer met die vorm van sy gedigte. Wanneer hy tot suiwerder en noodwendiger ekspressiviteit (sic) kan kom, sal sy verse deur baie gelees en waardeer word.”

Sy bundel Die kinders van Kain word aanvanklik deur ’n bekende uitgewer afgekeur en dit verskyn toe eers in 1960, 12 jaar ná Die stil kind. En oor Die kinders van Kain,skryf Adam Small, as die inhoud van hierdie bundel ál is wat gedurende daardie periode uit Petersen se pen verskyn het, “kwalitatief en kwantitatief, moet dit vir die digter self maar skamele troos wees”.

In Die Transvaler (24 Februarie 1961) is RPV die resensent: “Die propaganda-vers is nooit goeie poësie nie. En as dit dan, waar dit in Afrikaans geskryf is, hier en daar met ’n Engelse woord of uitdrukking ontsier word, imponeer dit niemand nie. En as daarby dan ook nog toevlug geneem word tot die platste moontlike woordgebruik in ’n taal, stoot dit mens dadelik af.”

Dan haal hierdie resensent uit een van die gedigte aan: “Passasier, ook ek vir nou / halfpad verleë, en half don’t care / soos mens soms by ’n afskeid voel ... / Suid-Afrika lê gunterver / die toekoms vrekgevaarlik voor!”

Hy/sy gaan dan voort: “Nou wil ek geensins te kenne gee dat die 32 verse wat in hierdie bundel saamgevat is geen poësie bevat nie. Petersen is en bly ’n digter en die bewys daarvan lewer hy hier weer. Waar hy hom in sy skrynende aanklag teen die witman die lot van sy mense aantrek, maar nog op suiwer estetiese vlak beweeg, lewer hy terdeë bewys van sy digterskap. (...) Die verskillende swak verse buite rekening gelaat, moet die bundel bepaald as ’n aanwins beskou word.”

Oor SV Petersen se volgende bundel, Suiderkruis (1965), skryf WEG Louw in Die Burger van 29 Oktober 1965 dat dit nie juis verrassende of nuwe aspekte na vore bring nie: “Terselfdertyd getuig dit van twee sake: ’n rustiger, minder verbitterde toon én ’n stewiger tegniese beheer van die vers. Saam bevestig hulle dat hy wél vir hom ’n plek in die Afrikaanse verskuns gemaak het. (...)

“Ek het dié bundel verskeie kere gelees en telkens weer laat lê. By die jongste lees daarvan nou die dag is dit eintlik wat my die meeste getref het, dié tweede aspek: Petersen se vermoë om ’n goeie, stewige vers te skryf, selfs wanneer sy tema nie veel om die lyf het nie. (...)

“Onder die rypste, maar nie noodsaaklik die beste, gedigte van dié bundel reken ek die vyftal kortes wat hy saam ‘Belydenis van die stedeling’ noem. Ek haal ’n fragment daaruit aan:

Daar’s vooruitsig in die klawer,
speels is die Frieslandbul doenig –
die koeie wei tevrede;

Die vrugte boord is danig vol,
en daar’s weelde in die wingerd;
die ooie het tweeling gelam;

Hingsperd orent runnik genot:
die boer is in die parlement,
en plaasklong leer vir advokaat!

“Die oop, los toon van sulke verse – af en toe selfs met ’n tikkie verleentheid daarin – gee ’n mens moed vir wat Petersen nóg gaan skryf.”

PG du Plessis (Die Transvaler) noem Suiderkruis van SV Petersen ’n “berustende bundel”. Du Plessis skryf verder: “En hoewel Petersen onder die kleurlingdigters nog altyd die beruster was, was hierdie nostalgie na die verlede en die eie vir my soms meer treffend as die uitroepe en lotsbeklaging. En ek sê dit bloot om literêre redes.

Suiderkruis gaan grotendeels mank aan dieselfde gebreke wat die kritici reeds in ander bundels van Petersen aangedui het: die soms geykte taalgebruik is nog te bemerk en die versorging van die formele dinge in die vers laat veel te wense oor. Veral die ritme het my dikwels in die keel kom sit.”

14 jaar ná Suiderkruis verskyn SV Petersen se Alleenstryd by Tafelberg Uitgewers. Dit word bestempel as ’n keur uit sy verse, skryf Hilda Grobler in Hoofstad (24 April 1980): “Daar is ruim gebruik gemaak van al die gedigte wat in die vier bundels verskyn het sodat die twintig, wat uit sy eerste bundel gekies is, letterlik tekenend is van Die enkeling.”

Grobler voel ongelukkig dat een van die belangrikste gedigte in Petersen se tweede bundel, Die stil kind en ander verse, naamlik “Fragment”, weggelaat is. Want dit was in daardie gedig waar die “merk van Kain” die eerste keer genoem word en dat dit ook die motief was agter die titel van die derde bundel, Die kinders van Kain.

Grobler gaan voort: “Daar is duidelike tekens van groei in Die kinders van Kain, maar hier moraliseer Petersen baie maklik sodat die gedig geheel en al vervlak tot ‘lessie’. (...) Soos wat die titel van sy laaste bundel, Suiderkruis, aandui, konsentreer Petersen nou veel wyer, konsentreer hy nou op die suidelike halfrond. (...) Van die vier bundels is Suiderkruis die heel sterkste, suiwerste poësie, want dit gaan in die eerste plek om die digterlike werking, om die maak van ’n gedig en nie meer om tematiese uitinge nie.

Alleenspraak, is skerp tiperend van dié vier bundels: dit is en bly die stem van iemand wat die ander kant van die lewe moes leer ken, moes lééf. Alhoewel ’n mens nie heeltemal gelukkig is oor die feit dat party van Petersen se kenmerkendste gedigte uit die versamelbundel gelaat is, is Alleenspraak nogtans ’n belangrike publikasie – veral omdat dit soveel van Petersen se gedigte uit die eerste bundel, wat deesdae haas onbekombaar is aangesien daar destyds so min gedruk is, bevat.”

En in Beeld van 22 Oktober 1979 sluit CJM Nienaber sy resensie só af: “Alleenstryd is ’n ongelukkig lank vertraagde, maar daarom ’n des te meer welkome, publikasie. Want eindelik is bykans die helfte van Die enkeling, tesame met die haas ongeskonde, Die stil kind, Kinders van Kain en Suiderkruis, nou weer toeganklik vir ’n wye publiek. Mog dit die belangstelling wek wat dit verdien, nie net in die algemeen nie, maar ook op skool- en universiteitsvlak, sowel binnenslands as buitelands.”

SV Petersen het ná die publikasie van Alleenstryd nie te lank gewag om sy volgende bundel te publiseer nie. Trouens, net ’n jaar later, in 1980, verskyn Nag is verby. Johan Johl is die resensent in Volksblad (5 November 1980): “Die meeste verse in Nag is verby klink in tema en versifikasie na bekendes uit Petersen se oeuvre. ’n Mens is seker dat wat ‘daar aangaan in sy gemoed en in dié van sy mense’ (CJM Nienaber in Oor literatuur 2) tog darem verander het.”

Johl gaan voort: “In die bundel van die daeraad, die nuwe lewe, is dit vreemd om so ’n groot aantal doodsgedigte te kom kry, hoewel daar binne so ’n wye tema altyd vir dese en gene ’n plekkie ingeruim kan word ...

“Die plasing van gedigte is nodeloos deurmekaar en in groepies en klompies versprei. Dit verg van die leser meer as wat aangebied word as beloning vir die heen-en-weer-verbandlegging tussen tekste. Die hantering van tekste is muwwerig en steeds oustryk, wat seker op sigself weer ’n aanklag na albei kante toe inhou: het niks dan regtig verander nie?

“Dalk die heftigste beswaar is die gebrek aan digtheid. Die poësie is slap en futloos. Sowat van retoriek, sowat van prosa-op-rym duld geen goeie vers nie! En as ek nog stelliger wil wees: in hierdie bundel sit min poësie, veel deurgeleefde gevoel, maar min poësie.”

En in Die Burger (4 November 1980) skryf CJM Nienaber: “Oor die algemeen is Nag is verby egter ’n betreklike ‘skraal’ bundeltjie. Verreweg die meeste gedigte kom yl voor. Naas ‘Kaapse vlak’ en ‘Schwarzwald’ is daar wel geslaagde onderdele. (...) Maar weinig verkry ’n hegte eenheid in samehang met ’n waardige grondgedagte. Ook geld nog steeds kritici se uitsprake wat oor vroeëre bundels gedoen is, soos plek-plek ’n gebrek aan die juiste woord en beeld; vervangende abstraksie; sommer net allerlei insinkings en verslappings.

“Maar in ’n breër verband beskou, is Nag is verby ’n welkome aanvulling tot die totaalbeeld van Petersen se digkuns.”

Hans Ester (Zuid-Afrika, Februarie 1982) eindig sy bespreking van Nag is verby: “De kwaliteit van de hier gebundelde gedichten wisselt sterk. Hier en daar hebben de gedichten teveel het karakter van een programma, waarvan de literaire verpakking nauwelijks terzake doet. Soms blijven de gedichten steken in een matte, kleurloze weergave van dagelijkse emoties (die overigens als emoties wel, maar als gedichten niet respectabel zijn). Daarom is deze dichtbundel in eerste instantie van belang als uiting van het emancipatieproces van de dichter en van de groep mensen, van wie hij de spreekbuis wil zijn. Zo gezien bieden de gedichten een profetie, die de historie moge bevestigen.”

SV Petersen se laaste bundel voor sy afsterwe in 1987 is Laat kom dan die wind wat in 1986 deur Perskor uitgegee is.

Die opskrif van Daniel Hugo se resensie in Volksblad lui: “Tyd het dié digter ingehaal”. Hugo skryf dat Petersen dit nie vir sy leser maklik maak nie, want die verse in Laat kom dan die wind “is niks meer as die anachronismes van ’n ou man nie: in argaïese taal skryf hy oor verouderde temas. (...)

“Een van die min gedigte wat blyke gee van ’n bewustheid van die hedendaagse aktualiteit is ‘Groot Trek’, waarin gespot word met bruinmense wat vandag nog na Kanada uitwyk, al sit Apartheid ‘in die mik van ’n moerbeiboom’:

Uit daa’ie wêreld
skryf hulle:
‘Ons verlang!’ dink, raai?

‘Daar’s g’n witblits
ons drink nou
Canada Dry.’ (...)

Laat kom dan die wind lewer die hartseer getuienis dat een van die baanbrekers in Afrikaans deur die tyd ingehaal is.”

Phillip Zietsman (Die Vaderland, 7 April 1986) skryf dat Laat kom dan die wind verstegnies tot ’n nasionale monument vir die getroue restourasie van langverlore tegnieke verklaar behoort te word: “Afdeling een bevat gedigte beurtelings pretensieus, naïef, pedanties, vaag en retories. (...) In afdeling twee is die Kaap amper weer hollands. Die gedigte in hierdie afdeling is sentimenteel, oppervlakkig, ouderwets, maar musikaal, komieklik en met ’n sekere selfversekerde bravour geskryf wat elders ontbreek. (...) Afdeling drie bevat hoogstens ouderwetse en uiters sentimentele gedigte.

“In die geheel gesien, is dit ’n bundel waarin heelparty gedigte bekoor, maar geeneen ruk of ontroer nie. Die gedigte kort verdieping, dimensie en spanning, is essensieel oppervlakverse wat geweldig baie aan oortuigingskrag inboet weens die growwe sentimentaliteit en naïwiteit daarvan. (...)

“Die slotreëls van talle gedigte bevat flou insinkings, juis vanweë die gebrekkige eenheid tussen vorm en inhoud. (...) Ondanks alle besware, wen die bundel (moontlik op onregverdige wyse) tot aan allure. Bloot omdat dit die werk van ’n veteraan van 40 is, is die leser nie heeltemal só beswaard deur die ouderwetsheid nie, luister hy maar gemoedelik saam met die wind wat wil-wil woed om die huis en dan maar stofopskop op die werf. En dit is nie sonder bekoring om weer van die ou Kaap te hoor nie, na ’n verlore Kaap te luister nie. Om vir ’n wyle te vergeet.”

In 1962 word daar ook ’n Engelse bundel, Meditations on the brink, uitgegee wat sterk klem lê op geestelike wroeging en ’n betrokkenheid by naastesmart. SV se geloof was kinderlik en sy getuienis dat alle gawes Godsgenade is, geredelik. (Rapport, 8 November 1987)

In 1959 ontvang SV ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die Afrikaanse kultuur wat tydens die taalfees van die kleurlinggemeenskap van Kaapstad aan hom oorhandig is. As die son ondergaan word ook deur die blad Kern as boek van die maand aangewys, en ook as een van die vier beste romans wat deur Unie-Volkspers uitgegee is. In 1982 ontvang hy die Dekorasie vir Voortreflike Diens van die staatspresident, Marais Viljoen.

Ook in 1982 word SV Petersen aangestel as die eerste bruin lid van die raad van die destydse SAUK. Hy het aan The Argus (26 Junie 1982) gesê dat hy die aanstelling met ’n “oop gemoed” aanvaar: “I am going to the SABC with an open mind and I have no intention of knowing how to operate until I get there to decide. (...) Why should I have reservations [about the appointment]. I am a South African. All I know is that there is a task for me to do and let’s see if I can do it.”

In Desember 1987, net na SV se afsterwe, ontvang hy die ereburgerskap (postuum) van Riversdal saam met Alba Bouwer en Dalene Matthee. ’n Radio-hoorbeeld oor SV Petersen saamgestel deur Chris Swanepoel en getiteld Kind van die dal is in 1989 oor die SAUK uitgesaai.

In 1977 word Petersen voorgestel as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die Akademie kon egter nie tot ’n besluit kom oor sy lidmaatskap nie en sewe lede bedank as gevolg van hierdie besluiteloosheid. Hy is genader om lid te word, maar het dit van die hand gewys as gevolg van slegte gesondheid.

In 1997 toonset Hendrik Hofmeyr twee gedigte van SV Petersen, naamlik “Kinderland” en “Die veles”, wat onder andere deur die sopraan Zanne Stapelberg gesing word (in 2002). In 2005 word nog toonsettings van Hofmeyr van Petersen se gedigte, gesamentlik getiteld Alleenstryd, tydens die Woordfees op Stellenbosch gesing.

Op Vrydag 30 Oktober 1987 is SV Petersen ná ’n kort siekbed in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad weens nierversaking oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou, Mavis, en hulle seun, Sydney.

Huldeblyke:

  • Barend Toerien: “Hy was ’n digter van formaat en het nege digbundels, benewens ’n roman, die lig laat sien. Hy was ’n gevoelsmens wat sy emosies direk in eenvoudige woorde uitgedruk het: roerend en met verlange oor sy jeug in die Riversdal-wêreld en sy ongeskonde platteland, of met deernis oor die armes en verstotenes van die stad. Maar dwarsdeur sy werk bly hy die buitestander, die enkeling, soos die titel van sy eerste bundel dan ook verklaar. (...) SV was ’n waardige heer, ’n gentleman, een wie se gesproke Afrikaans – korrek, beskaaf – vir my altyd selfbewus laat voel het, ek met my slordige Engels-deurspekte Matie-taal. (...) Ons almal het ’n goeie man, ’n goeie vriend en ’n gawe digter verloor, een wat nie maklik vervang sal kan word nie.” (Die Burger, 4 November 1987)
  • Zelda Jongbloed: “Op bedryfspolitieke vlak was SV nooit bedrywig nie. Sy gedigte egter was die stem van die misdeeldes, sy mense. Daarin veroordeel hy die politieke stelsel, lewer hy sosiale kommentaar. Hy was ’n voorlopermens, van die eerstes om op Afrikaans uitdrukking te gee aan dit wat hom grief of vreugde gegee het. (...) SV was die soort mens wat, waar hy ook al gegaan het, mense besiel het, aangemoedig het. Hy was ’n inspirasie vir die sukkelendes, ’n uitdaging na groter hoogtes vir die suksesvolles. Nooit suinig met lof (of kritiek!) nie.” (Rapport, 1 November 1987)
  • Die Vaderland: “SV Petersen het Afrikaans verryk met sy kuns. Maar by sy dood onthou ons ook met waardering dat hy die eerste was om op treffende wyse deur sy bittere verse tot die gewete van die blanke Afrikaner te spreek.” (Die Vaderland, 3 November 1987)
  • Rapport: “Digter ja, dit is SV Petersen. Kleurling-digter? Aikona! Hy’s ’n Suid-Afrikaner (Afrikaner ook as jy wil!) en hy’s bruin van gelaat. Dít was SV Petersen, een van ons gemeenskap se eerste en, oor die laaste veertig jaar, bekendste digters. Rapport bring vandag hulde aan ’n man wat deur sy gedigte, sy betrokkenheid by mense en instansies, sy rol as opvoedkundige, ’n onuitwisbare merk in die literatuurgeskiedenis en op ons gemeenskapslewe gelaat het.” (Rapport, 1 November 1987)
  • Franklin Sonn: “Die groot en onverganklike waarde van SV setel egter daarin dat hy beter as enigeen anders die smart, verydeling, verstoting, grenslose ontreddering en pyn van sy mense uitgedruk en verwoord het. In ’n bepaalde sin was SV die onsterflike stem van ’n generasie wat verstoring en selfs emaskulasie moes verduur onder die oog van hul eie kinders. (...) Ons, wat plek-plek nog die gal in ons monde voel brand, wil soms wonder of SV hom nie te geredelik teruggehou het nie – in ’n sin miskien té vergewensgesind, té welskape voorgedoen het. (...) Moes hy nie sy vlymskerp seggenskrag laat botvier het teen die onreg wat sy geslag aangedoen is nie? Hierdie is vrae wat ons nog lank sal besig hou, terwyl ons en ons kinders hierna nie bloot sal wonder oor SV en sy lewe nie, maar ook oor die generasie waarvan hy een was, waarvan hy een van die grotes was. Derhalwe sal SV se werke as monumente bly voortbestaan. Dit sal ons altyd herinner aan die verlede en die komende geslag leer omtrent die tyd toe daar van ons ouers kinders gemaak is. Dit sal ons help om op baie vrae antwoorde te vind. Ons sal weet van ons ouers se protes, smart en pyn. Ook sal die sinisme en verbetenheid van die hedendaagse jonger geslag en die daaropvolgende geslagte beter beoordeel kan word.” (Rapport, 8 November 1987)
  • Richard van der Ross: “SV Petersen was ’n skeppende skrywer. Hoeveelheid het nie getel nie. Kwaliteit alles. Hy was baie bewus van sy onvermoë in die wêreld van rasionaliteit. Analitiese denker was hy beslis nie, maar hy het groot bewondering gehad vir diegene wat analities kon redeneer. So het hy diep gelees in die filosofie, en weens sy ingesteldheid het hy hom aangetrokke gevoel tot die mistieke en die godsdienstige. Sy soeke na nuwe ervarings het hom baie male na baie wêrelddele geneem, asof hy na ’n maat gesoek het om sekere leemtes in sy lewe en gemoed te vul. Maar hy het Enkeling gebly.” (Rapport, 1 November 1987)
  • Cape Times: “SV Petersen – novelist, academic, teacher, humanist, traveller, raconteur and much-lauded poet who used the magic of his Afrikaans verses to smash through age-old barriers. Mr Petersen’s spare, idiomatic verses and poetry won him the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns’s 1959 medal of honour – the first time the supreme Afrikaans literary award had ever gone to a man of colour.” (Cape Times, 31 Oktober 1987)
  • Steenkamp, Willem: “SV Petersen never forgot his origins, but he did not believe in racial labels either, as his friend, Dr RE van der Ross, wrote just after the 1959 award: ‘Petersen as an artist sees only one Order in nature: A man’s humanity is first; his colour secondary.’ I have the impressions that Petersen’s basic approach to racial barriers was not so much to complain about them as to ignore them by concentrating on the sheer quality of his work.” (Cape Times, 3 November 1987)

Publikasies:

Publikasie

Die enkeling

Publikasiedatum

  • 1944
  • 1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Port Elizabeth: Unie-Volkspers
  • Kaapstad: Maskew Miller

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • FPVDM: Vernuwing in ons digkuns. Suid-Afrika, Mei 1944
  • Lewis, JH: Die enkeling [gedig]. Klasgids, Oktober 1994
  • Malherbe, FEJ:
    • Die enkeling. In: Wending en inkeer, 1948
    • Die enkeling. Ons Eie Boek, September 1944
   

 

Publikasie

As die son ondergaan

Publikasiedatum

  • 1945
  • 195-
  • 1965
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Port Elizabeth: Unie-Volkspers
  • Kaapstad: Maskew Miller

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Unie-Volkspers-prys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Derde druk van roman. Die Burger, 18 Maart 1966
  • Manuel, George:
    • Coloured life from the inside. Cape Times, 4 Januarie 1956
    • Colourful author writes Afrikaans “classic”. Cape Times, 11 November 1950

 

Publikasie

Die stil kind en ander verse

Publikasiedatum

1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Maskew Miller

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Kok, B: Kleurling dig in Afrikaans. Volksblad, 9 Oktober 1948
  • Van Heerden, Ernst: Die stil kind. Die Burger, 19 Junie 1948

 

Publikasie

Die ouderling

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Maskew Miller

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die kinders van Kain

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • RPV: Petersen: digter en aanklaer. Die Transvaler, 24 Februarie 1961
  • Small, Adam: Verse deur twee Kleurling-digters. Die Burger, 10 Februarie 1961
  • Van Rensburg, FIJ: SV Petersen se derde bundel. Volksblad, 22 Februarie 1961

 

Publikasie

Meditations on the brink

Publikasiedatum

1962

ISBN

(hb)

Uitgewer

Zeist: De Haan

Literêre vorm

Meditasies

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Suiderkruis

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cloete, TT: Suiderkruis [geen details op knipsel]
  • Du Plessis, PG: Verse vloei gelyk. Die Transvaler, 26 September 1965
  • JME: Petersen se jongste verse stel teleur. Dagbreek & Sondagstem, 12 September 1965
  • Louw, WEG: Geen verrassings maar stewige tegniek. Die Burger, 29 Oktober 1965
  • Van Rensburg, FIJ: Min bly oor op sif [geen details op knipsel]

 

Publikasie

Alleenstryd: ’n Keur uit sy verse

Publikasiedatum

1979

ISBN

062401293X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • “Ek bly ’n bruin S-Afrikaner”. Rapport, 23 September 1979
  • Grobler, Hilda: Petersen-alleenspraak onvolledig. Hoofstad, 24 April 1980
  • Johl, Ronèl: Verjaardagbundel stil-stil op mark. Volksblad, 14 November 1979
  • Nienaber, CJM: Keur uit Petersen se gedigte. Beeld, 22 Oktober 1979
  • Olivier, Fanie: Petersen-bundel baie welkom. Die Burger, 15 November 1979
  • Vosloo, Johan: SV se gebed was ’n vuishou. Rapport, 23 September 1979

 

Publikasie

Nag is verby

Publikasiedatum

1980

ISBN

0624014908 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cilliers-Preller, Rika: Te veel dowe note in dié refrein. Die Transvaler, 12 Januarie 1981
  • Ester, Hans: Voor SV Petersen gloort de dageraad. Zuid-Afrika, Februarie 1982
  • Grütter, Wilhelm: “Child of Cain”. The Argus, 23 April 1981
  • Hugo, DJ: Dieselfde temas in nuwe bundel. Die Vaderland, 28 Mei 1981
  • Johl, Johan: “Kind van Kain” praat weer. Volksblad, 5 November 1980
  • Nienaber, CJM: Skraal bundel, maar tog welkom. Die Burger, 4 November 1980

 

Publikasie

Laat kom dan die wind

Publikasiedatum

1985

ISBN

0628022468 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Hier fluister geen muse. Rapport, 23 Maart 1986
  • Hugo, Daniel: “Tyd het dié digter ingehaal”. Volksblad, 15 Februarie 1986
  • Le Roux, André: Nie veel te sê. Die Burger, 26 Junie 1986
  • Van der Lugt, Pieter: Menslikheid agter gedigte. Die Vaderland, 7 April 1986
  • Zietsman, Philip: Ouderwets, maar nie sonder bekoring. Die Vaderland, 7 April 1986

 

Publikasie

Keurverse: ’n bloemlesing uit die gedigte van
SV Petersen en PJ Philander

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1969
  • 1970
  • 1975

ISBN

0624007669 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

’n Keur van biografiese artikels oor en deur SV Petersen

  • 3 000 kleurlinge vier die “Wonder van Afrikaans” [details van knipsel onbekend]
  • Adams, Gus: Sterkte aan SV Petersen! Rapport, 1 Augustus 1982
  • Adams, Malvory: Petersen vandag sewentig [details van knipsel onbekend]
  • Benjamin, Arnold: Without rhyme or reason? The Star, 3 Augustus 1982
  • Botha, Amanda: SAUK se Petersen bly altyd “net mens”. Die Transvaler, 30 Julie 1982
  • Bruin raadslid. Die Vaderland, 23 Julie 1982
  • Cluver, Gus: Petersen dalk tog assessorlid. Die Transvaler, 9 November 1977
  • Coloureds live in white area. Eastern Province Herald, 15 Januarie 1979
  • Death of city writer Mr SV Petersen, 73. The Argus, 30 Oktober 1987
  • Digters en Skrywers: SV Petersen. Keur, 19 Augustus 1994
  • Erepenning aan Petersen [foto]. Die Burger, 12 Junie 1959
  • Esterhuyse, Frans: Athlone’s quiet poet. Rand Daily Mail, 17 September 1975
  • Hendricks, Frank: Op die taalspore van SV Petersen: ’n blik op sy verkenning van taaldiversiteit. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 2010
  • Hendrickse bring hulde aan SV Petersen. Die Burger, 3 November 1987
  • High Honour for coloured principal. Cape Times, 6 April 1959
  • Jongbloed, Zelda:
    • Ons sê: SV Petersen, Vaar jou wel. Rapport, 1 November 1987
    • SV Petersen. Rapport, 1 April 1984
  • Lake, AS: Bekende Kleurling-digter se vader sê: “Ek is blank – my pas was ’n sweed”. Die Landstem, 8 September 1962
  • Manual, George:
    • Honours for “quiet poet of Athlone”. Cape Times, 12 April 1980
    • The fairer face of District Six. Cape Times, 23 Februarie 1979
  • On board. The Friend, 26 Julie 1982
  • Persoonlik. Rapport, 27 Oktober 1985
  • Petersen sees SABC board appointment as a responsibility. The Argus, 26 Julie 1982
  • Petersen, SV:
    • Aalwyne [gedig]. Nieuws uit Zuid-Afrika, 5 April 1975
    • Afrikaans – language of my emotions. SA Panorama, geen datum
    • Lewensbesonderhede [NALN se knipselversameling]
  • Poet’s membership [of Akademie]. The Argus, 23 Julie 1982
  • President huldig Petersen. Die Burger, 17 April 1982
  • Rassebotsing is vrugbare skrywersterrein. Die Burger, 13 Junie 1956
  • Riversdal vereer drie skrywers. Die Burger, 10 Desember 1987
  • Roudiens vir ontslape digter. Die Burger, 4 November 1987
  • Sidego, Conrad: Wat mens nie kan boikot. Rapport, 22 Junie 1980
  • Sonn, Franklik: SV, die stem van ’n generasie. Rapport, 8 November 1987
  • Steenkamp, Willem: SV Petersen – “ruthless, blunt” poet. Cape Times, 3 November 1987
  • SV Petersen: biografiese skets [NALN se knipselversameling]
  • SV Petersen groet. Rapport, 1 November 1987
  • SV Petersen in roudiens gehuldig. Die Burger, 3 November 1987
  • [SV Petersen oorlede]. Die Burger, 4 November 1987
  • [SV Petersen oorlede]. Zuid-Afrika, November/Desember 1987
  • SV Petersen op 73 in Kaapstad oorlede. Die Burger, 31 Oktober 1987
  • SV Petersen op 73 oorlede. Volksblad, 31 Oktober 1987
  • SV Petersen – sensitive outspoken poet. Cape Times, 31 Oktober 1987
  • SV Petersen†. Die Vaderland, 3 November 1987
  • Toerien, Barend J: “Dwars moet ek wees om reguit te wees”. Die Burger, 4 November 1987
  • Van der Ross, Dick: Ons groet ’n vriend: hy het Enkeling gebly. Rapport, 1 November 1987
  • Van der Ross, RE: Writer-teacher’s distinction. Cape Times, 23 April 1959
  • Van Gijsen, Nico: Digter word model. Rapport, 16 Desember 1984
  • Van Wyk, Steward:
  • Van Zyl, Wium: SV Petersen, ’n pure impure digter of “siende blinde enkeling”. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 2010
  • Vermaak, Jan B: Dit is soos ’n halssnoer wat jy inryg. Prisma, Oktober 1987
  • Willemse, Hein: SV Petersen se poësie van verwantskap. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 2010
  • “Wonder van goeie gesindheid,” sê SV Petersen. Die Burger, 16 Junie 1959

SV Petersen se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2008-12-15 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post SV Petersen (1914–1987) first appeared on LitNet.

The post SV Petersen (1914–1987) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 321


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>