![]() Foto: verskaf
|
Sêgoed van Pirow Bekker “Woorde vra my om op papier gesit te word. Naderhand begin dit amper by my spook.” “Skryf is ’n voortdurende onvrede met die tevredenheid. Daarom is dit half jammer ’n skrywer is net een maal in hierdie wêreld. Ek sê altyd ’n mens moet drie lewens hê: om te lewe, om te lees, om te skryf.” (Beeld, 10 Desember 1992) “Skryf is vir my lekker. Dis blêddie harde werk. As dit nie lekker was nie, sou ek dit nooit gedoen het nie.” (Beeld, 10 Desember 1992) “[Ek] hou nie van ’n eenlynige storie wat op die end toeknyp en dan’s jy klaar met hom nie. Die leser moet weer teruggaan. Hy moet konstruktief betrokke wees – maar dan weet ’n mens ook nie altyd hoeveel jy moet gee of hoeveel om terug te hou nie.” (Beeld, 10 Desember 1992) "Ek glo nie ek het ooit tendense gevolg nie. Ek het eerder ál meer in myself probeer kyk. En om dinge om my te beleef. Ek en my vrou en vroeër die kinders het op heelwat plekke gebly waar ons, om dit so te stel, heelhartig anker gegooi het. Ek kan feitlik sê waar en wanneer elke gedig ontstaan het. Elke plek het hoofsaaklik in ’n ander bundel neerslag gevind. Die laaste tyd was dit veral die see.” (Netwerk24, 8 November 2013) Is dit onvermydelik dat ’n digter op die een of ander stadium oor die ouderdom en naderende dood gaan begin skryf? “Ek dink dié aksent is maar by elke mens swewend teenwoordig. Maar met die ouer word, foeter dit net al hoe meer om daarop te gaan lê.” En dan die verkenning om oorlewing. In ‘Woordmens’ in Van roes en amarant staan een ding uit: Hy’t probeer om na die lewe toe te leef. (Netwerk24, 8 November 2013) |
Gebore en getoë
Versindaba: “Dit moet iets sê van die behoefte aan water in die streek, allerweë bekend as Die Moot, gevorm deur die Groot- en Kleinwinterberge.”
Sy pa raak ernstig siek en Pirow onthou ’n gedig wat hy in hierdie tyd geskryf het. Hy durf ook ’n speurverhaal aan, maar nie die gewone soort nie. Kort voor sy pa se dood verhuis die gesin terug na die Vrystaat. Sy pa sterf op 1 Maart 1950 toe hy 52 jaar oud was en Pirow self net 14 jaar. Op hoërskool sit hy sy skryfpogings voort met ’n onderwyser wat hom toelaat om soms ’n storie in plaas van ’n opstel te skryf.
Kleintyd was die boekery op die plaas maar skraal. “Veral die enkele digbundels het gou standaard-leesstof geword, een daarvan ’n bloemlesing Afrikaanse poësie. Saans na ’n ystervarkjag of iets dergeliks het ek met die Driemanskap in die bed gelê by kerslig. Dit het my pa my ‘’n man vir boeke’ laat noem. Hier van standerd vyf af het die prosa aantrekliker gelyk. (...) Toe eendag kom ek by ’n mooi niggie van my en daar lê ’n boek met die titel Barabbas. (...) ’n Vertaling uit Sweeds. (...) Die Barabbas-naam het net een ding beteken: skurk. Maar hier in Lagerkvist se boek het die skeidslyn tussen goed en kwaad begin vervaag namate menslikheid deurdrup. My haarrysende verhaal waaraan ek aan die skryf was, het ek nooit klaargemaak nie.”
Pirow vertel in 2022 aan AJ Opperman (Netwerk24) dat sy pa-hulle geweet het hy lees graag en het aan hom gesê hy kan op ’n tydskrif inteken: “Ek het op Die Brandwag besluit. Ek dink vandag dit was ’n fout. Die Huisgenoot was mos destyds eintlik die universiteit van die volk. Maar ek het toe Die Brandwag gekry. Een of twee maal was daar ’n uitgawe van Die Volksblad.
“Maar wat ek wil vertel: Daar was ’n boek wat hulle aan die boere gestuur het. Dit het allerlei dinge bevat wat die boer sal interesseer, soos hoe lank ’n merrie loop voordat sy vul. Die boek het ook bladsye bevat. Nou, daarin het ek begin skryf. Gedigte, ek het selfs ’n speurverhaal begin. Jy weet, toe ek Beurtelinge geskryf het, het ek heeltyd aan daai boek gedink. So in my agterkop.”
Pirow matrikuleer in 1953 op Smithfield met onderskeidings in drie vakke.
Verdere studie en werk
Pirow vertrek na Bloemfontein, waar hy BA aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) studeer. Hy behaal die graad in 1956. Gedurende vakansies werk hy by Volksblad en ná verwerwing van sy graad tree hy in diens van dié koerant. Hy was vir ’n kort rukkie onderwyser op Dewetsdorp, maar keer terug na Volksblad, waar hy ’n tyd lank hoofsubredakteur was. Sy skryfwerk gedurende sy universiteitsjare sorg dat hy ’n draagbare Olivetti-tikmasjientjie kon bekostig waarop hy verder kon skryf.
Oor die invloed van die joernalistiek op sy digwerk vertel hy aan Marlies Joubert: “Oor hierdie invloed kan ek nouliks ’n dispuut verklaar. Getuienis daarvan word duidelik gelewer in ’n deurwinterde koerantman Hennis Van Deventer se boek Laatoes. Onder die opskrif ‘Pynlike peins’ waar hy een van my eerste gedigte ‘Peins oor die plakkaat’ bespreek, vind hy blyke dat bo die neus van die nuushond daar ook die pyn van peins oor wêreldgebeure skuilgaan. Hy vind dit ‘die beste koerantgedig in Afrikaans’ wat vir dié ou penstoter aandui dat dit nie gemorste ink uit die vulpen was nie, want soos dit in die hitte van die stryd neergeskryf het, het dit bly staan.”
Deur deeltydse studie verwerf hy in 1961 en 1962 die grade BA Honneurs en MA – albei met onderskeiding. Hy word tydelik aangestel as lektor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, die Bloemfonteinse Onderwyskollege en later aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Opvoedkunde. In 1964 word hy lektor aan Unisa en in 1967 senior lektor.
Pirow verwerf sy DLitt et Phil in 1968 onder promotorskap van prof FIJ van Rensburg van RAU met sy proefskrif Die titel in die poësie, wat twee jaar later gepubliseer is. Sy MA-verhandeling oor die kwatryn word in die Blokboekreeks gepubliseer.
Pirow was die eerste student wat in die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte ’n graad aan RAU gekry het. By Unisa het hy binne ses maande ’n kursus in Afrikaanse prosa van die grond af op die been gebring.
Later gaan werk Pirow by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, waar hy in 1973 hoof van die Dokumentasiesentrum van die Instituut vir Taal, Lettere en Vertolkende Kunste word. Na 1979 gaan hy boer en lê hy hom al meer op sy skryfwerk toe.
Hy is getroud met Annatjie Bosman, ’n onderwyseres van die Noord-Kaap, en hulle het twee seuns en ’n dogter en vier kleinseuns en drie kleindogters. Sy drie kinders het, nes hulle pa, ook die plaaslewe leer ken toe hulle die plaas Doornhoek aan die Vaalrivier aangeskaf het. Die plaas was 23 jaar in Pirow se besit en was die inspirasie agter sy gedigte “Doornhoek” en “Afskeid van Doornhoek”. Hulle het ’n draai op Boggomsbaai naby Mosselbaai in die Suid-Kaap gemaak en is later terug na Pretoria.
Tydens Pirow se jare in die joernalistiek word gedigte van hom soos “Peins oor ’n plakkaat” en “hoger kon inklim” gepubliseer en later opgeneem in Stiebeuel 2 en in Opperman se Groot Verseboek. In 1965 verskyn sy eerste digbundel, Die klip sing. Heelwat kortverhaalbundels sowel as ’n paar romans verskyn ook uit sy pen. Hadihie hadida is ’n bundel kinderverse. Hy is ook die samesteller van die kortverhaalbundel Om laaste te kan lag. Hy skryf radiodramas en Herberg by die brug ontvang is in 1991 genomineer vir ’n Artes vir die beste radiodramateks. In 1992 word Dis die haan oor Radioteater van RSG uitgesaai. Ander radiodramas is Die vertoning moet voortgaan en Vishuis. ’n Paar eenakters vir verhoog, soos “Die boelie” en “Hitlers slaap ook” is deur Temple Hauptfleisch in sy publikasies opgeneem.
In Definisies deur die bloed wat in 1978 verskyn het, verwys die titel na die lang epies-dramatiese gedig in dertien dele Vir die mense van Kanete, wat die tweede helfte van die bundel beslaan, het André P Brink in Rapport.
“Hierin word die alledaagse lewe herdefinieer en die bestaan teruggevoer na sy wortels diep in die aarde en word die mens as’t ware gedefinieer deur die bloed en nie die woord nie.
“Die gedig het as basis die volksverhaal van Kanete se mense wat bedreig word met ondergang na die uitwissing van hulle magiese slang (behalwe vir sy oog) waaruit hulle mag, genesing en wysheid geput het. ’n Naamlose held uit hulle midde word gevra om ’n nuwe slang te gaan soek. Sy reis deur die land bring hom in aanraking met baie plekke, mense en dinge, maar hy behaal nie fisieke oorwinning in sy soektog soos in die normale heldelied nie. Eerder word hy afgestroop en uiteindelik triomfantelik weer deel van die aarde in ’n ander lewende vorm.” (TT Cloete, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September 1979)
In 2024 wil Marlies Taljard op Versindaba by Pirow Bekker weet watter gedig in sy oeuvre hou hy baie van. En sy antwoord is: “‘Vir die mense van Kanete’.”
Hy verduidelik verder: “My keuse van ’n gedig wat my steeds boei, is een uit die jare her. Dit is een van dié waaroor ek soms voel dat dit ’n gemiste kans verteenwoordig, dat ek dit nou as ek penregop sou gaan sit, waarskynlik beter sou kon skryf. Daar is buitendien iets byna voorspelbaars daaraan omdat dit verband hou met die latere tema in my werk van die son wat nie net voed nie, maar ook byt. Die gedig dra die opskrif ‘Vir die mense van Kanete’ en het verskyn in die bundel Definisies deur die bloed in 1978.
“Ek sou kon besluit dat die voltrekking van die soektog na ’n wonderbaarlike gifding anders moet geskied. Ek sou byvoorbeeld ‘hoër’ allure daaraan kon gee deur nadrukliker ooreenkoms met die koperslang wat in die woestyn verhef is en sterwende mense by die aanskoue daarvan kon genees. Die legende van my slang is deur my skoonpa, ’n boorling en boer van die Noordweste, soos die deel van Kaapland destyds bekend was, vertel: As enige krieseltjie van die dooie slang, bekend as die nghobba, in ’n bytplek ingesny en met die bloed gemeng word, bring dit onmiddellike verligting. Nie alleen word die pyn weggesyfer nie, volkome genesing volg daarop. Ek kan die reis en soektog van die jongman herskryf. Maar dan weet ek weer: Veel van die aardsheid sou dan dalk verlore gaan.”
Oor die gedig “Peins oor ’n plakkaat” sê Bekker in 2013 aan JB Roux dat dit so “maklik lekker” was om die vers te skryf, “veral deur sy verletterliking van die uitdrukking ‘jakkals trou met wolf se vrou’, dat ek daar hopeloos verlei is tot die poësie”.
In 1989, tydens die 150ste bestaansjaar van die Kaaplandse Onderwysdepartement, word ’n landwye kompetisie met prysgeld van R7 000 uitgeskryf om die tekort aan eenakters te probeer aanvul. Die opdrag aan die beoordelaars was om “opvoerbare en genotvolle werke van gehalte wat die onderwys en opvoeding eer sal aandoen” te identifiseer. Pirow was een van die drie pryswenners. In 1996 in die De Jager-HAUM-letterkundekompetisie het sy eenakter die derde prys verower. Hy is ook in 2008 deel van die Volksblad-Kunstefees se slypskool vir voornemende digters.
Oor sy skryfwerk, veral sy kortverhale, vertel Pirow aan Elfra Erasmus dat wanneer hy ’n storie skryf, hy selde aan die slot dink. “Dis die stof wat my interesseer. Dit moet vonk hê. Die vreugde van ’n kind se pril ervaring voordat hy van die dood bewus word, boei my. Ook die grootmens in die kind en die kind in die grootmens – ’n mens leer die kind in jou nooit af nie.” (Beeld, 10 Desember 1992)
Hy verduidelik aan Erasmus dat die stories in Lag byvoorbeeld ’n hele lewe omvang: “van die kind se ontwaking, sy bewustheid van sy omgewing, sy bewuswording van die dood en sy seksuele drange tot die liefdestryd en die aftakeling van die ouderdom (wat by my digwerk aansluit). Ek hoop nie die verhale stem die leser neerslagtig nie. Want, soos die ou boer in een van die stories sê, daar is te veel dinge wat in ’n mens neerslag gevind het dat jy die vreugde heeltemal kan negeer.”
Pirow se skryfwerk word oor die algemeen goed ontvang en hy is al beskryf as een van die mees onderskatte digters in Afrikaans. Pieter van der Lugt skryf in Die Burger van 21 Mei 1987 oor Eskarp dat “Bekker se werk dadelik toeganklik is omdat hy met sy statige styl en taamlik tradisionele versvorm op bekende terrein is. Dit is dalk sy vaardigheid met die prosa wat sorg vir die natuurlike taalritme van elke versreël.”
Joan Hambidge (Die Burger, 28 September 1993) se uitspraak oor Rasuur (1993) is dat Pirow op sy oortuigendste is in die korter, bondiger verse en dat dit ’n goeie bundel is met veel om te geniet.
Met betrekking tot Bekker se kortverhale skryf George Weideman (Die Burger, 11 Mei 1993) oor Lag byvoorbeeld (1982, 1992): “Dit is opmerklik watter wye verskeidenheid temas Pirow hanteer: onskuld van kindwees, inisiasie van die seun in ’n grootmenswêreld, verkennings van menseverhoudings en die vervreemding wat selfsug, verwerping, wraak en die gevolge van gesinsverbrokkeling meebring. Hierdie bundel bied vele uitdagings aan die fynproewer-leser.”
Sy roman Die mikstuur van Mooies (1996) word deur AP Grové as volg beskryf: “’n Boeiende satire op verstokte denke in die politiek, die oorgevoeligheid en agterdog aan albei kante van die kleurlyn en die hoogheilige joernalistieke optrede en houding.”
George Weideman skryf in Die Burger (21 April 2003) oor Stillerlewe (2002) dat dit ’n ryk hoogtepunt vir Bekker is: “Hy toon sedert sy debuut in bundel na bundel sy gevoeligheid vir die lewe daar buite – van die klein-menslike en die volkse en mitiese tot gebeure wat die verloop van die plaaslike aktualiteit en die tegnologie weerspieël.”
Bernard Odendaal (Volksblad, 10 Maart 2003) beskou ook Stillerlewe as Pirow se beste tot op daardie stadium: “In hierdie bundel, waar hy in die aangesig van die stygende ouderdom en die naderende dood leef, word ’n beheerstheid en indringende wesenlikheid van segging bereik wat beïndruk en ontroer.”
Pirow se volgende bundel, Van roes en amarant, verskyn in 2008. Volgens die uitgewers, Protea Boekhuis, is dit ’n bundel wat sterk gegrond is in die werklikheid “en die alledaagse word soms op vernuftige wyse in ’n ander lig gestel. Dit wentel om bekende temas uit sy vroeëre bundels, soos die aftakeling van die ouderdom, verknogtheid aan die aardse bestaan en die bewustheid van die dood as die groot onbekende. Daar is egter nooit sprake van selfbejammering nie, danksy sy satiriese en ironiese kyk na die werklikheid.”
“Amarant” in die titel verwys volgens die HAT na ’n “kruid van die geslag Amaranthus, gekweek om sy mooi blomme,” skryf Marius Crous op LitNet. In die Collins English dictionary beskryf hulle dieselfde plant as “poetic, an imaginary flower that never fades”.
Crous gaan voort: “Waar roes direk gekoppel word aan verval, bederf en vernietiging, word die amarant geassosieer met onsterflikheid. Die titel suggereer dat ons in hierdie bundel met die teenstelling sterflikheid/onsterflikheid te make het. Dit word ook gerugsteun deur die motto uit die werk van Horatius voorin, waarin die roemryke dade van die mensdom ondergeskik gestel word aan die treurspel van verganklikheid en sterflikheid.”
Crous sluit sy resensie op LitNet af met hierdie paragraaf: “Bekker se bundel laat hierdie ‘hardlywige [leser]’ met ’n gevoel van ontevredenheid: ontevredenheid, veral oor die feit dat die digter so ooglopend sy verse dikwels ondermyn met rymwoordkeuses en stellings; met onafgeronde slotte. Dikwels het ek uitroepe van ‘En? Dus?’ in die kantlyn geskryf. Maar, daar is ook heelwat verse in die bundel wat die teenoorgestelde reaksie ontlok het en die lees van die bundel die moeite loon.”
In Die Burger van 10 November 2008 sê Louise Viljoen dat hierdie een, net soos sy vorige twee bundels, tref “omdat dit die tekstuur het van iets soos grond of grint. Dis ryk aan betekenis, spreek van ’n lewendige belangstelling in wat die aarde bied, en dra die geheue van verskillende soorte geskiedenis, lokaal en globaal. Die gedigte beloon in alle opsigte die aandagtige lees wat hulle vra.”
Pirow se dogter, Anke, vertel dat van haar eerste herinneringe die ongelooflike stories is wat hy vertel het. “Hy het dikwels voor slapenstyd op die naat van sy rug op die bed gelê met een van ons kinders wat op sy maag sit. Ons kon kies waaroor die storie moes gaan, hetsy ’n miskruier en ’n olifant, ’n vink en ’n luislang, of die storie van die hondjie wat in die meerkatgat vasgesit het. Hy het met die wonderlikste stories vorendag gekom. My pa se fyn waarnemingsin en sy droë humorsin het dikwels ’n onderwerp vir bespreking met koffietyd opgelewer. (...)
“My liefde vir Afrikaans het ek by my pa gekry. Ons is van kleins af aan die letterkunde blootgestel en dit was nog nooit vir my iets hoogdrawends of bo my vuurmaakplek nie. Een van die redes daarvoor is dat ons gesin se wedervarings dikwels in ’n kortverhaal of gedig van my pa neerslag gevind het.” (Rooi Rose, 17 Junie 1992)
In 2013 verskyn Pirow Bekker se digbundel, Atlas teen die vergeetrivier, by Protea Boekhuis. Dit is die laaste deel van ’n drieluik wat voorafgegaan is deur Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008).
In ’n onderhoud met JB Roux (Netwerk24, 8 November 2013) vertel Bekker dat die bundel baie met oorgange werk, “voltooid of onvoltooid. Daar is deurgaans die spanning van uitreiking, oorbrugging hangende, die ‘aard’ daarvan. Die spanning word weerspieël in die afdelingstitels, in woordpare, selfs enkelwoorde.
“Van my eerste pogings af werk ek graag met meerduidigheid. Atlas is byvoorbeeld nie net die mitologiese figuur of die geologiese kaartboek nie, dis ook ’n ster en die boonste nekwerwel wat die kop laat draai. Die vergeetrivier is natuurlik die Lete waaruit die reisiger wat die wêreld verlaat, moet drink om die aarde te vergeet.
“Op algemene vlak is dit die simbool van verlopende tyd wat almaardeur dreig om die geheue weg te kalwer. Ek hoop dat elke gedig op sy eie kan staan, al reik dit uit na ander gedigte in die bundel en ook in die vorige twee bundels. Ek sien hierdie bundel saam met die genoemde twee graag as ’n drieluik. By elkeen lê die aksent egter anders.”
Susan Smith skryf op Netwerk24 (19 Januarie 2014) dat daar van die satiriese gedigte in Atlas is wat hul skerpheid inboet omdat die digter ’n “volkse, byna gedwonge poësie en geykte uitdrukkings” gebruik. Maar Atlas teen die vergeetrivier is, as mens wyer kyk, tog ’n bundel wat onthou kan word. “Die leser kan met vreugde hierdie digter se ‘bevoelde aarde’ meemaak.”
In Oktober 2016 debuteer Pirow Bekker met sy drama Die tikmasjien in Radioteater op RSG. In hierdie drama is water die fokuspunt. Die soeke daarna, almal se afhanklikheid daarvan, asook die besef van die kwaliteite waaraan water lewe gee. Met hierdie drama beskryf Bekker die verband wat daar is tussen die tikmasjien en die waterboormasjien. Die boormasjien soek water op ’n direkte manier, terwyl die tikmasjien indirek lewe gee deur die woord. Albei word deur ou werktuie gedoen - ’n klassieke Olympia-handmodel-tikmasjien en ’n Star-waterboormasjien.
Op Netwerk24 (26 Oktober 2016) word so ietsie meer oor die storie vertel. Dit is ook ’n verhaal van ’n ontluikende liefde tussen twee jongmense, “maar die liefdesdraad kan ook verknoop raak en die boor- en tikmasjiene in wapens verander. Op die wyse raak dit ’n spanningsverhaal. Die drama beweeg dus op die vlak van die realistiese, maar fantasie en ook die absurde speel daarop in - uiteindelik ’n ode aan water.”
JB Roux wou weet of Pirow Bekker ’n negende bundel in sy agterkop het. Hierop het Pirow geantwoord dat Atlas die einde van ’n pad waarop hy nie verder kan gaan nie, aandui. “In die ‘kopatlas’ lê daar nie nou gedigte voor nie. ’n Mens hou in alle geval maar ’n pen aan, al is dit net omdat jy gewoond geraak het aan twee keer lewe.” (Netwerk24, 8 November 2013)
Daar was toe inderdaad ’n negende bundel uit Pirow Bekker se pen op pad. In 2017 verskyn Voor ek my kom kry (Protea Boekhuis) en vir Joan Hambidge is die verse in die bundel ’n bevestiging van die temas in Bekker se vroeëre bundels, “naamlik die spel met vorige bundels, verse wat fokus op die siekte, ouderdom en die dood wat al naderkom, die verganklikheid, nie net van die mens nie, maar van alles en ook sosiale kommentaar.”
Hambidge gaan voort (Woorde wat weeg): “En hierdie bundel is ’n belangrike publikasie, omdat dit die eis van vernuwing die nek inslaan. ’n Digter hoef nie nuwe temas te ondersoek nie; of dramaties te vernuut nie. Solank daar bestendigheid is, behoort die digkuns-leser tevrede te wees. ’n Mens dink hier aan Eybers wat dieselfde temas bly ondersoek het: met groter en selfs met minder drif – maar altyd goed.”
Hambidge noem dit ook ’n “ryk-geskakeerde bundel” met sy korter gedigte of punt-digte wat “uitstekend” is. Vir haar het sy die grootste leesplesier gehad aan die verse wat in gesprek tree met Leipoldt, Totius en Marais: “Vergete is die aarde nie” (p 16) wat saamgelees moet word met Totius se “Die wêreld is ons woning nie”; “Erd-af mens” waarin daar na Leipoldt gekyk word; en die “suinige digter Marais wat deur vele verse trek”.
Daar is ook gedigte wat toespelings is op NP van Wyk Louw en Toon van den Heever. Hier haal René Bohnen die volgende gedig aan:
Opdrag vir ’n vroeë herfs
(Van Wyk Louw se “Vroegherfs” betrokke)
Ruim op die regop bome,
hulle wat kwansuis die winde vang,
hulle is die grondstelers, die waterputters,
sodat die sorghum verlep, die koppe hang
van kruie wat selfs ’n koggelram ’n loslyf gee.
Die witter staan is nie van witvoetjie soek:
die bas onder reeds afgestroop, ’n gat
in die stam geboor tot in die bloed,
deur dun tregters diesel ingetap – só bewerk
raak enige kalander tjop-tjop vuurmaakhout.
Julle werk vlerkloos stil in die nag, nie verlei
deur hoe die son herfs maak nie, sloop
wanneer die blare dood is, die takke droog,
en omdat die liewe aarde bloeiend moet bly,
sal hy pluimpies luisgras voor jul voete sprei.
Op Versindaba is Marlies Taljard die resensent en sy skryf as volg: “Globaal gesproke is Voor ek my kom kry ’n redelike sterk bundel wat in tematiek en tegniek aansluit by die digter se voorafgaande werk. Sterker besinning oor eindes en die dood is redelik algemeen in die werk van ouer digters. Bekker se woordrykheid en sy opsetlike omseiling van eenvoudige woorde en begrippe in ’n tegniek wat aan die raaisel herinner, doen ook in hierdie bundel (soos in voriges) soms afbreuk aan sy gedigte. So ook steur die gebrek aan duidelike denkspronge – soms is dit nie duidelik op welke wyse die uitgeborduurde beeld toeligtend ten opsigte van die stof staan nie. Ek dink hier onder andere aan die boom-beeld in die gedig ‘Voortrekker ken agterna’. Tom Gouws verwys in sy resensie van ’n vorige bundel na hierdie tegnieke as ‘vernufpoësie’. Daar is sekerlik heelwat gedigte in die bundel wat die illusie van spontane ontstaan skep, maar daar is te veel gedigte waarin die digter nog te duidelik aan die dig is, onder andere by wyse van te veel onsubtiele woordspelings, los en vas gebruikte vaste uitdrukkings en verklarings.
“Aan die positiewe kant van die balansstaat moet egter die digter se poëtiese bedrewenheid, sy fyn sin vir die ironie en die satire en sy kennis en ervaring van digterlike tegnieke genoem word. Bekker se kwatryne is steeds skerp soos ’n tweesnydende swaard. Wat kontraswerking betref, is hy ’n meester wat die leser soms koue rillings gee. Sy poësie word gekenmerk deur die saambestaan van teenstrydighede binne dieselfde gedig wat dui op ’n insig in die meerduidigheid en gevarieerdheid van die lewe wat min ander digters in Afrikaans beskore is.”
In ’n onderhoud met René Bohnen op Versindaba verwys sy na die humor in Pirow Bekker se bundels. Sy wou weet of hy dit doelbewus gebruik en of dit ’n “lewensperspektief is wat hy maklik in sy poësie aanwend”. Bekker antwoord dat die ironie en satire in sy verse spontaan ontstaan en was dit eienskappe wat reeds vroeg in sy werk te bespeur was. ’n Resensent wat Stiebeuel 2 bespreek het (“Peins oor ’n plakkaat” het daarin verskyn), het reeds gepraat van die “siniese en lughartige met die kritiese ook in die konglomeraat”.
In 2018 verskyn Pirow Bekker se volgende bundel kortverhale by Imprimatur Uitgewers onder die titel Aan die deur van die wis en die onwis. Die inligtingstuk van die uitgewers lui as volg: “In hierdie versameling kortverhale van Pirow Bekker is daar groot verskeidenheid: liefdesverhale (‘Die liefde het nie ’n wysvinger nie’), verhale met as hoofgegewe die geskiedenis (‘Die soettandoorlog’) of die aktualiteit, soos die gebeure van 11 September 2001 (‘Grepe vir ’n ronde dag’), ’n spookstorie of twee (‘Waar ’n mens hoort’) en stories vol humor (‘Die appel’ en ‘Die Humber-waterkar’).
“Bekker het ’n slag om ’n vertelling so te plooi dat die leser dikwels na die begin van die verhaal moet terugkeer of soek na daardie klein besonderheidjie wat jy dalk nie raakgelees het nie en dalk op die slot kan lig werp. Die leser moet ook mooi kyk na die plekname, name en byname van persone, want daarin skuil soms ook allerlei nuanses en implikasies. Die titels van die verhale dra dikwels verder tot die betekenis van die storie by en eers aan die einde van die storie besef jy waarom die titel so gepas is (bv ‘Mossie maar man’).
“Vanselfsprekend is taalgebruik en woordkeuse belangrik, maar in Bekker se geval is die digterlike vermoë om woorde op mekaar te laat inspeel opvallend. Selfs die skynbaar onbenullige gegewens wen dus aan betekenis, al is die leser nie altyd seker presies wát die implikasies is nie!”
Danie Botha het ’n resensie vir FMR geskryf wat op 20 Junie 2019 oor hierdie radiostasie uitgesaai is en later op LitNet gepubliseer is. Hy begin sy bespreking só: “My eerste klag het te doen met die slot van ’n teks. In sekere tekste vind ek dit moeilik om gou die intrige te snap. Dis of daar nie genoeg sleutels gegee word nie. Maar ander lesers sal weer daarvan hou om te redeneer en sake uit te sorteer. Of ek het waardering vir die inhoud, maar dan is die eindes te duister of dit raak my nie juis emosioneel nie. (...)
“’n Volgende hebbelikheid is ’n drukkunsprobleem wat deesdae nogal dikwels voorkom: oneweredige spasies tussen woorde. Dis asof die spasies uitgerek word en dan weer kleiner of normaal gedruk word. In hierdie bundel kom dit veral bo aan ’n bladsy en dan weer onderaan voor. Soos in ‘Die liefde bedek alles’ (bl 23); ‘Die appel’ (bl 39) en ‘Mossie maar man’ (bl 90).”
Aan die deur van die wis en die onwis bevat tekste wat vantevore in tydskrifte en ander bloemlesings verskyn het en uit hierdie verhale sonder Botha “Die agterryer weet te vertel” in die slotafdeling uit as een met ’n suggestieryke en evokatiewe einde.
Beurtelinge: ’n romoir word in 2022 by Hemel & See Boeke gepubliseer. Pirow vertel aan AJ Opperman op Netwerk24 dat Beurtelinge ’n boek is “waarin [ek] verskeie genres vervleg – met ‘mnr Alzheimer’ as die spookskrywer. ‘Romoir’ dui op ’n roman en outobiografie (of memoires) wat verweef is.
“Kyk, die hele boek is eintlik ’n reis tussen genres. Behalwe nou die roman en die biografie, is daar selfs kortverhale, gedigte, briewe, essays en eienskappe van ’n reisverhaal. Die eerste hoofstuk is omtrent hierdie herinneringsreis. Ek dink dis juis Phil van Schalkwyk (van die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit) wat dit gesê het: Elke hoofstuk is ’n kortverhaal.
“Ek hoop nie dis vir lesers ’n steuring dat dit so wyd loop nie. Maar die terugvoering wat ek kry, is dat mense sê dit lees lekker. En dis vir my genoeg. En iets oor die titel: Elkeen kry ’n beurt op aarde, en mettertyd gaan dit verby.
“Dan kan jy dit ook sien as ‘wat is lewe?’ Lewe bestaan deur gestaltes, deur iets of iemand bestaan lewe. Ons is as’t ware betrokke by die lewe. Wat ek beskou as lewensakteurs. Ek wou nie net ’n outobiografie skryf nie, want hierdie is ook ’n liefdesverhaal. Dis ’n soort verbintenis.”
Bekker vertel ook aan AJ Opperman (Netwerk24, 11 Maart 2022) dat noudat hulle in Pretoria woon, is hy en Annatjie nader aan die kinders: “Die kinders kyk nou maar na ons. Dis ook maar goed ons het hierheen gekom, want verlede jaar het ek en Annatjie albei Covid-19 opgedoen. Ek was bekommerd oor haar, want sy ly aan asma, maar sy het dit baie ligter as ek gehad.
“Ek was gelukkig nie in die hospitaal nie, maar mense het gedink ek gaan dit nie maak nie. Toe begin ek bloeding opdoen. Ek moes ’n spesialis gaan sien. Maar dit was toe ek nou al half aan die herstel was. Jy voel mos asof hier ’n ding soos ’n parasiet op jou lê. Hy maak jou tot die dood toe gedaan.
“Ek was toe 85 en die spesialis het gesê: ‘Jy is 85 en jy sit hier. Jy is ’n lopende wonderwerk.’ Nou ja, ek kan dit seker aanvaar, maar ek was wragtig só siek.”
Hulle het ook ontdek dat Annatjie gedurig dinge vergeet en omdat haar ma en oudste suster Alzheimers gehad het, is hul na ’n neuroloog. Dié het hulle gerusgestel dat dit nie Alzheimers is nie, maar dat hulle dit moet monitor, vertel Pirow Bekker aan Opperman: “Sy is baie lief vir lees en doen blokraaisels en sudoku. Dit hou haar kop aan die gang. Daarom is Beurtelinge ook ’n verbintenis tussen onthou en vergeet. Hierdie ironiese toestand. Jy wil onthou, maar jy vergeet. Daai een hoofstuk noem ek ‘Borderkollie van onthou’.
“Dit is ’n poging om te onthou ondanks die vergeet. Hierdie demoon van demensie wat gedurig deur die boek sirkuleer. Toe ek dit klaar geskryf het, het ek half aan die einde ’n bietjie liries geraak en dit beskryf as ’n groot simfonie van kom en gaan. Dis die kruks van die saak. Ons is almal in hierdie groot simfonie.”
Op Maroela Media is Johan Myburg die resensent en vir hom beeld die woorde van DM Thomas wat as motto in Beurtelinge voorkom, die betekenis van die woord romoir goed uit: “We all live in our own unique and semi-fictional novel.”
Myburg skryf voorts: “Soos Elsa Joubert se Spertyd (2017) is die trant van Beurtelinge dié van besinning, van terugkyk, van weeg en oorweeg en aan die hand daarvan vorentoe te kyk. Gesoute skrywer wat Bekker is, doen hy dit aan die hand van die verskillende skryfvorms wat hy sy lewe lank beoefen – daar is elemente van reisbeskrywings, kortverhale, dagboekinskrywings, briewe, aanhalings uit gedigte, gesprekke tussen die skrywer en sy vrou en les bes besinnings oor die letterkunde. Al dié elemente word vernuftig ingevleg in dié herinneringsreis waarvan ‘alle weglatings … lê in die skootrekenaar van die spookskrywer, mnr Alzheimer’. (...)
“Beurtelinge se eerlikheid maak dit ’n waardevolle werk. Die boek is agterin voorsien van ’n persoonsregister wat verwysing maklik maak.”
Pirow Bekker vertel aan Lilla Fourie (Plus 50, Desember 2022/Januarie 2023) meer oor die ontstaan van Beurtelinge: “So vyf jaar gelede het ek en Annatjie ʼn herinneringsreis aangepak en op die ver paaie van ons jeug by al ons grootwordplekke oor Kaapland heen aangedoen – hare in die noordweste op die eilande van die Benede-Gariep, myne in die Oos-Kaapse bergwêreld. Aan die hand van dié reis het ek toe ons albei se geskiedenis opgeskryf in die boek wat later Beurtelinge geword het.”
Die titel verwys daarna dat ons almal maar beurtelinge is wat kom en gaan, wat elkeen sy beurt op aarde kry en dit so goed moontlik moet benut. “Ek wou meer daarvan maak as ʼn blote outobiografie,” verduidelik Pirow. “Daar is twee hoofkragte in die boek. Eerstens is dit eintlik ʼn liefdesverhaal gegrond op die wisselwerking tussen twee mense – die bokmakierie fluit en dan antwoord die ander een. En die ander wat hand aan hand daarmee loop, is die geheue, die onthou en die vergeet. ’n Memoir beteken dat jy onthou, maar dan kom die vergeet en vreet die onthou geleidelik weg.”
Hul herinneringsreis was ook ʼn poging om te onthou ondanks die vergeet, skryf Lilla Fourie. “Die reis moes die geheue opskerp en help om al die belewenisse terug te bring. Want die skaduwee van demensie en Alzheimer se siekte hang al baie jare oor hul lewens. Dit duik ook, met die bittersoet van verlies daarby, in Beurtelinge kort-kort op tussendeur die onthou van die mooi dinge en die staaltjies oor hulle geliefdes en bekende persoonlikhede. En inderdaad noem Pirow dat ‘a paradise lost’ die subteks van die boek is, beide oor die plaas waarvandaan hy as kind moes weggaan en die weggaan van onthou.”
Ook in 2022 verskyn Pirow Bekker se tiende digbundel, Rakelinks, by Imprimatur in Pretoria. Die uitgewer skryf as volg oor hierdie digbundel: “Pirow Bekker se tiende digbundel word gekenmerk deur beweging, stuwing en vaart, gedra deur allerlei voertuie: van skamelkar en stoomtrein tot hommeltuig en vuurpyl. Wanneer daar stilstand kom, stu die woord verder in odes, gestalteverse en monoloë. Deur alles loop aanrakings, mild van die liefde; of wreed waar die sang versteur word. Soms word die aangeraaktes links gelaat in die magtige bewegings van planeet en uitspansel, van kernreaktor en vulkaan.
“Die wêreld is vir die digter steeds ’n speurtoneel waar hy met sy loep die kosmiese en die aardse, die mitologie en die werklikhede van die verlede en die hede kan ondersoek. Die digter in Bekker is nog lank nie dood nie – hy wil soos Homeros weer die muse aanroep en gereedmaak ‘om in te skeep/ en rakelings langs ’n blinde kus te vaar’.”
Op Versindaba (13 Junie 2022) skryf Marius Crous: “Met die lees van die titel kom woorde soos rakelings, ink, links by mens op. Rakelings, met sy betekenis van ‘byna raak wees’ (HAT) word veral gekoppel aan ink, omdat die bundel so sterk ingestel is op die digkuns. Vir die digter is Homeros vergestalting van die digterskap. In ‘Homeros hou ’n ogie in die seil’ (14) skryf hy in dié verband:
“Ek bevaar steeds Poseidonseë, krabbel
instinktief notas neer, met my lot
nou minder geleë in die skoonskryf
van apokriewe ou verhale. (...)
“Die ouer ingeperkte digter fokus op alledaagshede soos sy huis se dak, of besin oor die dood van Tolstoi of wat Galilei op sy dogters se briewe sou antwoord. Verder is daar die binnereis wat die vervloë kinderdae oproep met geliefde diere soos die perde en die hond Duister. In ‘Komplot met ’n vismot’ (36) word die osoonlaag opgeoffer om hierdie klein ‘vandaal’ met sy ‘geknipte vlerke’ te spuit:
“Ek kon nie met gevoude hande toesien
hoe jy die woorde uit my boeke sny
sodat niks vir die uiteindelike leser
sal oorbly nie.
“Die digter is beslis nie dood in Pirow Bekker nie en as nasaat van Homeros is hy gereed vir die tog vanuit Ithaka oor die seë van Poseidon.”
Publikasies:
Publikasie |
Die kwatryn as digvorm: ’n stilistiese studie |
Publikasiedatum |
[1962] |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Bloemfontein” P.J. Bekker |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die klip sing |
Publikasiedatum |
1965 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die titel in die poësie |
Publikasiedatum |
1970 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Doktorale tesis |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die kwatryn |
Publikasiedatum |
1974 |
ISBN |
0949964301 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Literêre kritiek |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Toekomstige betrekkinge |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
0624007758 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die liefdeskronieke van Basilika |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
090923115X (hb) |
Uitgewer |
Bethlehem: Op Safari |
Literêre vorm |
Prosa |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die peerboom en ander verhale |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Hadihie hadida |
Publikasiedatum |
1977 |
ISBN |
079810726 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderpoësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Vangs |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die sentrum |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Definisies deur die bloed |
Publikasiedatum |
1978 |
ISBN |
0624011267 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Manna kommering: veldtogte om ’n stem liederlik verdraai deur inmenginge en onthoudinge |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0624013995 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Trap sag terwyl jy hardloop |
Publikasiedatum |
1981 |
ISBN |
0624016072 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Lag byvoorbeeld |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Witsalpeter: ’n ridderroman |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0624022749 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Voordat berge gebore word |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0624021300 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Eskarp |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0624023966 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Rasuur |
Publikasiedatum |
1993 |
ISBN |
0624032019 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Stillerlewe |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
1919825967 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar |
|
Publikasie |
Die mikstuur van Mooies |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0624035085 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Toorop-stories |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0799334421 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Van roes en amarant |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
97819192587 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Atlas teen die vergeetrivier |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9781485300090 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Voor ek my kom kry |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9781485306481 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Aan die deur van die wis en die onwis |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
9780620810890 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Imprimatur Uitgewers |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Beurtelinge: ’n Romoir |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
9781928283539 (sb) |
Uitgewer |
Hermanus: Hemel en See Boeke |
Literêre vorm |
Memoires |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Rakelinks |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9780620982993 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Imprimatur Uitgewers |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Pirow Bekker as samesteller
- Digters op die toring: ’n keuse uit die werk van die Twintigers; saam met H.J. Schutte. Pretoria: Van Schaik, 1970, 1976 [ISBN 0627004083 (hb)]
- Om laaste te kan lag: verhaalbundel. Kaapstad: Tafelberg, 1984, 1985, 1986, 1987,1988 [ISBN 0624020746 (sb)]
Artikels oor Pirow Bekker beskikbaar op die internet
- Digtersprofiel: Pirow Bekker. Versindaba, 28 Maart 2022
- Du Plessis, Lize: Digter ’n inspirasie én leermeester. Volksblad, 10 Julie 2008
- Erasmus, Elfra: “Skryf is harde, maar lekker werk”. Beeld, 10 Desember 1992
- Foster, Ronel:
- Lourens, Amanda: Die toepassingsmoontlikhede van die teoretiese gesprek oor laatwerk: ’n ondersoek van die oeuvre van Pirow Bekker. Stilet, September 2017
- Pirow Bekker
- Pirow Bekker
- Pirow Bekker
- Pirow Bekker
- Pirow Bekker-drama vanaand op RSG. Netwerk24, 26 Oktober 2016
- Taljard, Marlies: Aangenaam! Onderhoud met Pirow Bekker. Versindaba, 27 Maart 2024
Gedigte deur Pirow Bekker
- Ek het ’n huisie aan die Rand [gedig]. Maroela Media, 5 Maart 2014
- Versindaba, 2021–2024
- Na Stofpoort toe [gedig]. Versindaba, 10 Mei 2024
- Skink is nie volmaak nie (Mont du Toit-kwatryn). OuLitNet, 21 Junie 2004
- Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Video van Pirow Bekker se Week 8-wenlimeriek. LitNet, 12 April 2019
- Skryfkompetisie: #politieklimeriek – Week 8 se wenner. LitNet, 3 April 2019
Pirow Bekker se ATKV-Skrywersalbum is oorspronklik op 7 Junie 2017 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Pirow Bekker (1935–) first appeared on LitNet.
The post Pirow Bekker (1935–) appeared first on LitNet.