Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 321

Rosa Smit (1945–2021)

$
0
0

Gebore en getoë

Rosa Smit is op 6 Mei 1945 op Alberton gebore. Sy was daar op hoërskool en matrikuleer in 1963 aldaar.

Rosa se ma was Jana Coetzee, bekende skrywer van Afrikaanse liefdesverhale, en sy het ’n suster, Linda.

Verdere studie en werk

Ná skool is Rosa na die Onderwyskollege van Pretoria, waar drama en spraakopleiding haar hoofvakke was. Sy het haar diploma in 1967 verwerf.

In haar jonger jare was Rosa ’n fotografiese model en ook ’n finalis in die Mejuffrou Suid-Afrika-kompetisie.

Sy het verder studeer aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in die vertolkingskuns, asook by Aletta Gericke se Akademie vir Dramakuns en Voordrag. Ná voltooiing van haar studies het Rosa by verskeie amateurtoneelgroepe aangesluit, onder andere die Johannesburgse Toneelgeselskap.  

Hierna is sy vir ’n rukkie na Europa, en ná haar terugkeer na Johannesburg het sy onderwys by verskillende skole gegee en radiowerk gedoen. Tydens haar onderwystyd het sy ook spreekkore vir skole afgerig. Rosa was ook betrokke by die Afrikaanse Skrywerskring in die destydse Transvaal wat oorgeloop het na die Afrikaanse Skrywersgilde.

Sy het haar eie dramaskool op die been gebring, en ná die publikasie van haar eerste gedigte in Visier en die verskyning van haar eerste digbundel, Krone van die narsing, begin sy ook met haar eie skryfskool.

Sy is intussen met die digter Pieter Smit getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore. Hulle het hulle eers in Hartebeespoort gevestig en later in Pretoria, maar is hierna geskei.

Gedurende die vroeë 1990’s het Rosa begin skilder, en van haar ekspressionistiese skilderye is baie gewild en in aanvraag.

In 2013, nadat sy as onderwyseres afgetree het, het Rosa en haar lewensmaat, Jurgen van Zyl, na die kusdorpie Stilbaai in die Suid-Kaap verhuis.

Nadat vyftien van Rosa se ongepubliseerde gedigte saam met dié van ander digters in die versamelbundel Visier (Tafelberg, 1984) opgeneem is, is haar eerste solobundel, Krone van die narsing, in 1987 by Tafelberg uitgegee. Hierdie bundel is in 1989 met die Ingrid Jonker-prys vir poësie bekroon.

Die verse wat in Visier verskyn het, is almal in Krone van die narsing opgeneem, en vir Lucas Malan (De Kat, Augustus 1987) was dit al in 1984 duidelik dat sy ’n “vars bydrae tot die religieuse vers kan lewer. Met die verskyning van haar selfstandige debuut word dié verwagting bevestig.”

Malan het verder geskryf: “Verse wat handel oor ’n liefdesgeskiedenis en die gesinslewe word in afdeling I gegroepeer en die meer mistieke belewenis van die ander bruid in afdeling II. Met gedugte voorgangers soos Antjie Krog en Sheila Cussons op dié twee terreine waag Rosa Smit natuurlik veel, en tog slaag haar verse meer as gewoonlik in debuutwerke waarin om die geykte ánders te kantel. (…) [sic]

“Die ek-en-jy-bewustheid (so kenmerkend van debuutwerke) in afdeling I herinner soms hinderlik aan die Ingrid Jonker-idioom wat ons poësie in die jare sewentig so deurtrek het. Op die lange duur raak dié fokus vermoeiend eenselwig …. Komplekser en meer gedefinieer is die artikulasie in afdeling II waar die gesprek deurgaans tussen skepsel en Skepper gevoer word. (…) Ook in die prysliedere ‘hooglied’ en ‘immanuel’ kan die leser plek-plek skaars die ore vir Sheila Cussons sluit ... (…)

Krone van die narsing is een van die min debute die afgelope soveel maande waarvan sekere beelde en gedigte die leser bybly.”

In sy bespreking van Krone van die narsing het TT Cloete (Volksblad, 6 Junie 1987) geskryf dat hierdie bundel gedigte bevat oor die gewone lewe in die dorp of in die stad. Daar is ook verse oor die liefde en heelwat godsdienstige verse: “Die taal is deurgaans gemeensaam, direk, eenvoudig, ongekompliseerd en onverfraai,” het hy verder geskryf, “al is daar hier en daar ’n bietjie te gewilde beeld of vergelyking, en ’n paar keer rymnood. In enkele gedigte is dit nog nie werklik poësie nie, is die versreël willekeurig en sonder noodwendigheid, selfs prosaïes – veral sterk in sekere godsdienstige gedigte.

“Tog is daar baie lirisme in die bundel, en die singende gedigte, soos ‘sing want die reën kom’ (…) Te midde van die baie digbundels wat vandag in Afrikaans verskyn, is dit nie ’n baie prominente debuut nie, maar wel beminlik in sy eenvoud.”

Ook André P Brink (Rapport, 26 Julie 1987) het gemeen dat Rosa se gedigte belofte inhou. Vir hom was Krone van die narsing nie ’n bundel wat jou aandag dadelik trek nie, “maar daar is ’n onmiskenbare sjarme in dié verse waaraan mens tog met genoeë lees. (Verkieslik proe-proe, want te veel op ’n ry raak weldra één-tonig.)

“Teen die einde van die eerste afdeling het ek begin vrees dat dit ook nét bekoorlik gaan wees, niks meer nie; ’n beelde-wemeling, elk vertroetel; ’n gemaklike voortvloei van liefdeslus en -leed – soms bietjie opstandig – sonder dat daar ooit werklik weerstande opgerig of oorkom word. (…)

“Maar die tweede afdeling, waarin religieuse (spesifiek Bybelse) verse oorheers, verdiep die vroeëre fasiliteit telkens tot iets meer indrukwekkends, waarin menslike tydelikheid en nietigheid afskilfer teenoor die almag en ewigheid van die goddelike. (…)

“Daar is nog veel vlakheid en fasiliteit wat afgesterf sal moet word voordat Rosa Smit ’n naam word wat die leser teen wil en dank onthou; maar verdienste – én belofte – is daar reeds.”

Vir AP Grové (Beeld, 6 Julie 1987) is die belofte wat Smit se gedigte in Visier getoon het, nie vervul nie. “Die stem wat in Visier opgeklink het, is hier nog duidelik hoorbaar. Daar is nog die oopheid voor die wonder van die natuur; daar is nog voorbeelde van ’n gevoelige beelding; sekere motiewe, religieus en amoreus, keer ook terug.

“Wat in die beste Visier-verse van Rosa Smit opgeval het, was die vermoë van die digteres om te objektiveer; om met beelde en/of ’n bepaalde situasietekening aan persoonlike belewenisse en gevoelens ’n artistieke geldigheid te gee. (…)

“Maar dan is daar onder die nuwe gedigte, veral in die tweede deel van die bundel, ’n koersaanpassing merkbaar wat myns insiens hierdie digterskap nie ten goede gekom het nie. Die gevoel vir die dramatiese het wel nie heeltemal verdwyn nie (‘einde’). Daar is onder die nuwe gedigte oral nog flitse skerp waarneming, fyn trekkies soos byvoorbeeld die siening van die kosmos ‘wat koulik saamstaan teen die pad’, maar sieninge soos dié bly te dikwels geïsoleerde momente wat meermale afgewissel word met geforseerdhede en taaldwang …”

Joan Hambidge (Vaderland, 15 Junie 1987) is veral getref deur die liriese aanslag van Krone van die narsing. “In die tweede afdeling van die bundel word die religieuse verse aangetref en die titel word in die slot-gedig verklaar. Wat ’n mens dus hier aantref, is ’n soort suiwer liriek – wat dikwels afwesig is in sogenaamde Protestantse verse wat eerder deur ’n soort somberheid gekenmerk word – waarin die spreker die vreugde oor die Goddelike, die Volmaakte besing. (…)

“Die werklike bydrae van Rosa Smit se digterskap kan afgelees word uit dié handvol gawe religieuse verse. Daarenteen [sic] bevat die eerste afdeling net te veel verse wat deur ’n sentimentele noot versteur word. (…)

“Dit is ’n delikate digterskap hierdie en een wat veel beloof, veral ten opsigte van die religieuse vers.”

In 2008, 21 jaar na die verskyning van haar debuutbundel, verskyn Rosa se tweede bundel by Protea Boekhuis onder die titel Die begeleiding van duiwe.

Oor hierdie bundel het Rosa aan Stilbaai Nuus vertel: "My bundel, 'Die Begeleiding van Duiwe' het my groot plesier verskaf, aangesien dit vir en oor Israel handel. Die gedigte raak aan die geografie van die land, geslagslyne, persoonlike belewenisse asook die apokaliptiese gebeure wat in Israel sal afspeel.

"Om Israel lief te hê as gelowige is so maklik soos brood en botter saam. Die gelowige is slegs die ingeënte olyftak in die uitgekose volk van God. Die eerste dissipels was almal eers Jode en sal dit nie opwindend wees as die volk hulle Messias herken nie! Die Skrif sê dat dit sal wees soos lewe uit die dood!"

Marlies Taljard is die resensent in Beeld  van 23 Junie 2008 en sy begin haar bespreking as volg: “Geil en sensueel, beloof die omslag van Rosa Smit se bundel Die begeleiding van duiwe en sensueel en oorvloedig is die nasmaak wat bly ná die lees daarvan.

“Smit se vermoë om onbelemmerd in metafore te dink en die lewe na simbole om te dig, bewys dat sy die afgelope 22 jaar, sedert Krone van die narsing, in voeling gebly het met die dig-ambag.

Die begeleiding van duiwe bevat beslis van die mooiste liefdesgedigte wat onlangs in Afrikaans verskyn het, afgestem op die vroulike ervaring en verweef met die reismotief wat die stramien van die bundel vorm.

“Spanning wat die sprekende ek ondervind tussen haar land van herkoms (Suid-Afrika) en die land waar haar geliefde woon (Israel), spreek reeds uit die openingsgedig …. (…) Die Midde-Oosterse konflik figureer by herhaling en word veelvuldig met temas van liefde en godsdiens vervleg. (…) ’n Viering van liefde en skoonheid kenmerk die godsdienstige verse waarin die temas van liefde, oorlog en reis soms in jukstaposisie staan. Religie is ook die gemene deler in die meeste figuurgedigte uit die laaste deel van die bundel (…).

“’n Mens sou Die begeleiding van duiwe met ’n ryk brokaat kon vergelyk, maar ewe goed met ’n outydse Sondagmiddagetenstafel waar jou eetlus van pure oordaad wegslaan. Reeds by die lees van die inhoudsopgawe laat die groot aantal gedigte (van ’n relatief onbekende digteres) wat gebundel is, die wenkbroue lig.

“Gebrek aan subtiliteit blyk ook op inhoudelike vlak, byvoorbeeld uit die titel wat so letterlik opgeneem word dat die meeste van die 70 gedigte ’n direkte of indirekte verwysing na duiwe of ander voëls bevat, uit die ooraanbod figuurgedigte – ’n stuk of 20 – en spoel oor na die ornate oorvloed beskrywende woorde wat baie gedigte kenmerk. Die digteres se gebrek aan selfbeheersing op terreine waar die beginsel van ‘minder is meer’ gewoonlik geld, is waarskynlik die grootste tekortkoming in die bundel.

“Dat baie swak afgeronde verse deel uitmaak van ’n bundel wat met strenger keuring op ’n veel hoër standaard kon gewees het, is werklik jammer. (…) Wat literêre aanbod betref, is die bundel allermins grensoorskrydend. Daarom maak die feit dat Protea bereid was om dit uit te gee, ’n belangrike stelling oor die publikasie van digbundels: Gedigte is nie die alleen besit van diegene wat op hoër, kouer paaie gaan nie. Mense wat poësie vir plesier lees, is sonder erg aan die akademiese diskoers wat baie moderne digbundels kenmerk – en dié marksegment kan die langer afgeskeep word nie.”

Vir Joan Hambidge (Volksblad, 24 Junie 2008) is daar ’n klompie sterk verse in Die begeleiding van duiwe, “dáár waar vorm en inhoud één word”. Maar ook sy meen dat die bundel by ’n strenger keurdershand kon gebaat het.

“Maar,” gaan Hambidge voort, “aan die anderkant is dit juis die ongebreidelde emosie wat sekere lesers sal onthou en aanspreek. Met ’n tweede lees, benader ek ’n bundel van agter na voor om ander leesknope te vind. Juis so word die meeste verse te lank, te woordryk vir my smaak.”

Zandra Bezuidenhout (Die Burger, 19 Januarie 2009) meen dat daar baie lesers is wat die toeganklikheid en innigheid van die bundel sal geniet. Daar is “genoeg aan liggaamlikheid en kleurryke natuur, en enkele intertekste uit die kunste. Vir ingewydes mag dit egter te swaar dra aan herfs, mistigheid, kamelias en druiwetrosse, en aan samestellings soos ‘dachauvoete’ en ‘ss-oë’. Self sê die spreker teen die einde van die bundel: ‘vas en los praat ek / my dae om’. Vandaar dalk die newels en die swagtels van oordaad.”

In Rapport van 28 September 2008 sluit Bernard Odendaal sy resensie van Die begeleiding van duiwe as volg af: “Die bundel bestryk aktuele en boeiende sake soos die (Suid-) Afrikaanse diaspora en eietydse etniese en religieuse brandpunte, waarteen universele temas soos liefde en religieuse mistiek gesilhoeëtteer staan.

“Dit is daarom jammer dat die digterlike vergestalting van hierdie inhoude nie deurgaans toereikend is nie. Die feit dat Smit se ‘nabye Oosterse’-gedigte die knap werk van haar voorganger in hierdie  verband, Olga Kirsch, in die geheue roep, strek nie tot haar voordeel nie.”

Dit het nie weer 22 jaar geneem voor Rosa se volgende digbundel verskyn het nie. In 2013 verskyn Die rooi veer in Vasco se hoed by Rosslyn Press. Tydens die bekendstelling daarvan vertel Rosa aan die gehoor dat sy eendag na die Atlantiese Oseaan gestaan en kyk het en onder die indruk gekom het van die magtigheid van dié stuk water. Dít het haar laat dink aan die destydse ontdekkingsreisigers en hoe hulle die oseane aangepak het met kleinerige seilskepe sonder dat hulle geweet het wat op hulle wag. En sy het toe besluit om Vasco da Gama as fokuspunt vir haar volgende bundel te gebruik. (https://www.youtube.com/watch?v=6z-F0hQglFo)

En, skryf Marius Crous (Volksblad, 15 Januarie 2014), daar kan al uit die titel afgelei word dat die Portugese seevaarder Vasco da Gama die uitgangspunt is vir hierdie bundel oor die koloniale tyd. Dit wil lyk of die inspirasie vir die bundel Da Gama se standbeeld in Lissabon was.

Die eerste afdeling sluit ook etlike gedigte in oor Da Gama en sy seereise en “mettertyd verklap die digter dat sy met Da Gama as medereisiger (p 17) die wêreld verken en sluit heelwat reisverse in oor haar besoeke aan plaaslike en buitelandse plekke. Daar word ook verwys na die rooi veer in Da Gama se hoed in ’n fiktiewe brief aan sy vrou, wat aansluit by die titel. (…)

“Só word die ‘draaipaaie op die reiskaart’ voor die tyd nagetrek as deel van ’n reis wat onderneem gaan word. Deurgaans in die bundel is daar ook ’n bewustelike gesprek met en oor die poësie, asook die ontstaan van ’n gedig. (…)

“Net soos die tweede afdeling van die bundel staan in die teken van die innerlike reis wat onderneem en ingelei word deur ’n reël van Rilke, word die derde voorafgegaan met St Teresa van Avila se opmerking dat selfs God op die een of ander reis is. Dié verse in hierdie afdeling herinner aan Smit se vorige religieuse werk. (…)

“Net soos Antjie Krog destyds in Lady Anne haar misnoeë met haar historiese reisgenoot uitgespreek het, kry mens in Rosa Smit se bundel ook dat Da Gama, die held van die ontdekkingsreise om die Kaap, gerelativeer en ontluister word. In die eerste gedig word verwys na hom wat sy lyf kom hanswors hou het aan die Kaap en soos ’n vermaakster toertjies uitvoer. (…)

“Hier en daar in Rosa Smit se bundel is mooi beelde, geslaagde metafore en tegniese vaardigheid en word die oordaad van woorde verminder en suiwerder. Ná die lees van hierdie derde bundel voel ek of ek pas na ’n Tretchikoff -skildery gekyk het: Daar is vorm, daar is eksotiese skoonheid, daar is ’n rykdom van kleure en tint – maar daar is tog iets wat my pla. Is dit die opstapeling van beskrywende woorde? Is dit die herhaalde gebruik van kaneel vir sy geur of kleur of is dit die vele verwysings na die son?”

Crous sluit af: “Die lees van hierdie bundel laat my met so ’n gevoel van ambivalensie. By enkele van die verse het ek ‘ja, en?’ geskryf, want myns insiens is hulle nog nie klaar nie.”

“Smit het destyds die Ingrid Jonker-prys verower vir haar bundel Krone van die narsing, wat ’n bepaalde leesverwagting skep,” is Joan Hambidge se slotsom oor Die rooi veer in Vasco da Gama se hoed. “Hierdie bundel, is om die minste te sê, ’n vraag oor wat die werklike funksie van ’n prys is. Of dalk on-funksie.

“Smit het op haar dag delikate liefdesgedigte en mooi religieuse verse geskryf. Inderdaad vra ons: ‘Wat het ek misgevaar, verbygeseil?’ (30).

“Dit is myns insiens nie ’n goeie bundel nie. Gedig op gedig bevat momente, mooi beelde, maar dit is nie deurgekomponeer nie.”

Rosa het by geleentheid in die openbaar opgetree om haar gedigte voor te lees, onder meer by die Versindaba-poësiefees in Stellenbosch (2008) en die Afrikaanse Stemfees by die Huis vir Afrikaanse Poësie (2010) in Pretoria. Van haar verse is ook opgeneem in Tydskrif vir Letterkunde, Groot verseboekDie Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigteDie braambos brandHonderd jaar laterVersindaba 2008 en Die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans.

In 2002 het sy die drama Richmond geskryf en self die regie daarvan behartig vir die Kleinteater en Teaterhuisie.

Die afgelope paar jaar het Rosa Smit ’n beduidende rol gespeel in Ian Raper se poësiewerkswinkel, Versklas, wat weekliks by die Huis van Afrikaanse Poësie aangebied is.

Rosa se laaste digbundel, Die slingerplant se wintergroei, is deur Naledi gepubliseer en was bestem om in Augustus 2021 bekendgestel te word, maar op 20 Julie 2021 is Rosa Smit oorlede nadat sy drie weke lank in die hospitaal was met COVID-19. Sy het genoegsaam herstel om huis toe te gaan waar sy deur haar lewensmaat, Jurgen van Zyl, versorg is. Haar longe het egter baie verswak en sy is ná vier dae terug hospitaal toe, waar sy oorlede is.

Huldeblyke

  • Naledi-uitgewers: “Dit is met groot hartseer dat ons by Naledi verneem dat Rosa Smit oorlede is. Ons het so daarna uitgesien om saam met haar die pad te begin stap van haar pas gepubliseerde digbundel, Die slingerplant se wintergroei. Die bundel dek ’n wye spektrum onderwerpe: van liefde, groei, gebed en opstanding tot skeiding. Watter voorreg is dit nie vir ons om dit te kon publiseer nie. Rosa se gedigte bied, in die woorde van Marianne Moore, werklike paddas (‘toads’) in verbeelde tuine, ook met die ’noodsaak’ wat Opperman van ’n gedig vra.

“Tog nou die groot hartseer. Ons opregte meegevoel met almal wat haar ken. Veral die familie en vriende.

Nou val vere uit die lug van dooie voëls,
riviere rittel met koue skouers en hulle
vingers grou ’n lêplek in die sand.
– Rosa Smit” (LitNet)

  • Ian Raper, vriend: “My en Rosa se vriendskap het al in die 1970’s begin toe ons by De Waal Venter se huis maandelikse gedigsaande bygewoon het: Skielik neem ons die Johannesburgse Afrikaanse Skrywerskring in hande. Wat gou oorgegaan het in die Afrikaanse Skrywersgilde.

“As mens nou hulde bring aan die digter, word die féit van die ‘digkuns’ genoem, ook dat Rosa geskilfer het (haar studie by Goudstad het beeldende kuns primêr gestel). Die geloof wat vir haar so belangrik was. Maar oor die werke self, merk ek, kry slegs die ‘inhoudelike’ plek. As daar elemente van die Joodse geloof en Israel voorkom, word die brug byvoorbeeld maklik gespan na Olga Kirsch toe. Rosa het eenkeer ’n bietjie bekaf gesê al is daar geen ‘eenheid’ in en tussen haar bundels nie, sal die verbandleggers soek en elke verwysing na (byvoorbeeld) iets roois in gelid plaas. Maar anders as die werk van digters met dosyne kartongedigte in bundels, is Rosa s’n elkeen in groot mate ’n afsonderlike kunswerk met eie bestaansreg, en bestaanswyse. (…)

Die begeleiding van duiwe was ’n gepaste gegewe vir ’n bundeltitel. Dit voeg die godsdienstige implikasie by die natuurgenoeë.

Die rooi veer in Vasco da Gama se hoed was ’n eweneens onverwagte magiese verrassing en heerlike ontplaasliking. Dis nou reeds twee verblydende eienskappe van haar gedigte (natuurlik nie almal nie, al wil resensente so dikwels veralgemeen op ’n manier wat aan Dekker-hulle se saamgeflanste ‘digterspersoonlikheid’ herinner!).

“Intensiteit, elke vers met sy eiesoortige ‘onmiddellikheid’ (Van Wyk Louw), ’noodsaak’ (Opperman), en klank. Iemand het net ná haar dood verklaar dat haar verse ‘sing’, wat jy nie kan beweer oor baie gedigte wat gepubliseer word nie.

“Uit dieselfde bundel:

Ek sal verhewe reën ook vir hiérdie land afbid,
in groen siftende buie oggende en middae deur
sien hoe Artemis tussen marmerpilare
van die Akropolis stuk-stuk verweer. (Uit: ’n Brief van Paulus)

“Verwikkelde en koesterende woorde met die sintuie ontvanklik: dit is die vonds telkens in die beste van Rosa se werk. Ons kan dankbaar wees. Haar dood is ’n verskriklike verlies.” (Netwerk24, 26 Julie 2021)

  • Naudé Kritzinger, vriend: “Rosa was ’n annerste een. Soms nogal ’n prima donna met haar rooi lippies wat sy van studentedae seker gedra het toe sy Joolkoningin was. Sy was altyd besonder eerlik en was daarom soos ’n unieke tipe gin – party mense hou nie daarvan nie, maar vir die fynproewer is dit ’n groot plesier.” (MaroelaMedia)
  • Haar familie: “Sy is die bron van hoop vir baie mense; sy is naïef in haar oortuiging dat die wêreld regverdig kan wees; sy baklei vir eenvoud, sy baklei vir familiewaardes. Sy is kompleks, meer so omdat sy so direk en vasbeslote is.

“Haar algemene kennis, haar liefde vir mense en diere en haar onverskrokke liefde vir Jesus as haar verlosser laat haar die wêreld om haar aan die brand steek.

“Haar kleinkinders; drie seuns en ’n pragtige dogter leer by haar die wil om te leef, om te gee en om om te gee. Hulle leer by haar dat die lewe vir die gelowige ’n lewe van oorvloed sal wees.

“Sy is die steunpilaar van geloof. Sy ken pyn en daardeur is sy kreatief, ook kreatief in haar verhouding met mens en met God. Haar vlam brand helder oral waar sy was." (Stilbaai Nuus)

  • Emile, haar seun: “Sy was ’n bron van lewe. En soos iemand grappenderwys gesê het: die hemel gaan nie weer dieselfde wees nie. Sy het duisende vriende regoor die land gemaak en was by voedselskemas betrokke, het klere aan armes gegee en was selfs by dieremishandeling- en -beskermingsgroepe betrokke. Selfs in tye wanneer sy self swaargekry het, het sy maandeliks haar deel aan behoeftiges gegee.” (Stilbaai Nuus)
  • Nini Bennett: “Smit se poësie word gekenmerk deur die gebruik van Christelike tematiek, soos dit aansluiting vind by die oorlogsgeweld in die Midde-Ooste en waarin Israel in die brandpunt van die konflik staan; reis- en liefdesgedigte, asook verse wat teen ’n historiese agtergrond uitspeel. Sy het oor ’n sonderlinge vermoë beskik om skoonheid en geweld in balans te bring, en sal veral onthou word vir haar liriese aanslag en vindingryke gebruik van beeldspraak. Sy sal onthou word as ’n nimlike figuur in haar persoonlike hoedanigheid, sowel as dié van mentor.” (Versindaba)

Publikasies

Publikasie

Krone van die narsing

Publikasiedatum

1987

ISBN

9780624024774 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Ingrid Jonker-prys 1989

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die begeleiding van duiwe

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781869191993 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die rooi veer in Vasco se hoed

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780992197896 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Rosslyn Press

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die slingerplant se wintergroei

Publikasiedatum

2021

ISBN

9781928530442 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Artikels oor en deur Rosa Smit beskikbaar op die internet:

Rosa Smit se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2021-08-24 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Rosa Smit (1945–2021) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 321


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>