- In hierdie album word mense aangehaal wat pejoratiewe terme gebruik wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.
Gebore en getoë
Lionel George Sheldon is op 2 Junie 1927 op Malmesbury in die Swartland in die Wes-Kaap gebore. Sy moeder was ’n onderwyseres en sy vader is redelik jonk oorlede. Hy het een broer en een suster gehad.
Hy het sy laerskoolopleiding aan die NGK Sendingskool op Malmesbury ondergaan en het in standerd 5 (vandag graad 7) hierdie skool verlaat.
’n Groot deel van sy jeugjare het hy op die Morawiese sendingdorpie Mamre deurgebring. Sy moeder se voorouers het daarvandaan gekom.
Vir verdere opleiding is hy na Soutrivier naby Kaapstad, waar hy aan die Engelsmedium Wesley Opleidingskool studeer het.
Verdere studie en werk
Aan dieselfde Wesley Opleidingskool het Sheldon ook sy onderwysdiploma in die middel 1940’s behaal, waarna hy hom ingeskryf het aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) vir ’n BA-graad met Engels en Afrikaans as hoofvakke.
Sy eerste aanstelling as onderwyser was te Rietfontein, het Sheldon aan Naln vertel (inligtingstuk), “waar ek amper van die honger (gedurende die krisis van die vierjaarlange droogte) omgekom het. Vandaar het ek ’n betrekking langs die Oranjerivier te Loxtonvale aanvaar, waar ek my aanstaande vrou, Sophia Scholtz, ontmoet het en in 1948 met haar getroud is.” Sophia is op 17 Junie 1924 op Loxtonvale gebore en die egpaar het tien kinders gehad.
Sheldon het die onderwys egter vir ’n rukkie verlaat om bestuurder van ’n groot bakkery in die Kaap te word. Na ses maande is hy terug na die onderwys en wel as hoof te Elandsfontein naby Ceres en daarna na Palmietfontein naby Beaufort-Wes. In 1949 is die gesin na Vredendal aan die Weskus, waar hy skoolhoof was van ’n tienman- primêre skool.
Sheldon se belangstellingsveld was wyd. Tydens sy jare as onderwyser het hy onder andere ’n kursus in die teken van spotprente deurgeloop. Hy het ook belanggestel in die okkulte, sterrekunde en grafologie, en het ’n groot liefde vir musiek, meer spesifiek vir sang, gehad. Behalwe sy skoolkoor het hy ook die kerkkoor afgerig. Hy self het diplomas by verskeie sangkompetisies verwerf.
Lionel Sheldon was ook baie betrokke by sy gemeenskap. Hy was onder andere voorsitter van die besturende komitee van die destydse bruin woonbuurt by Vredendal, asook van die Olifantsrivier se sang- en sportunies. Ook op kerklike gebied het hy sy kant gebring en as diaken in die NG Sendingkerk gedien; hy was ook skriba van dieselfde kerk. As voorsitter van die Kulturele Vereniging op Vredendal was hy ook betrokke by die opbou van die gemeenskap en het hy ook een maal per week geletterdheidsklasse aan die ongeletterde bejaardes van sy gemeenskap aangebied.
In 1960 het die destydse Afrikaanse Pers-Boekhandel Lionel se eerste en enigste digbundel gepubliseer, onder die titel Weeklaag van die wese.
In Volksblad van 22 Februarie 1961 was FIJ van Rensburg se kritiek nogal skerp. Hy het sy bespreking as volg begin: “Die enigste publikasierede vir Weeklaag van die wese deur die Kleurlingdigter Lionel Sheldon is dat die uitgewers blykbaar meen dat daar op die oomblik ’n mark vir hierdie soort ding bestaan.”
Van Rensburg het in dieselfde trant voortgegaan: “Die bundel is volgens die nou reeds bekende resep berei; uitbeelding van die ellende van die Kleurlinglewe en van verskillende Kleurlingtipes (byvoorbeeld die onvermydelike Saterdagaand en sy jolyt), ’n vloek of wat teen apartheid, en – maar dis nie volgens die resep nie, en seker die ‘positiewe geluid’ wat die uitgewers laat meebesluit het om die boek uit te gee – ’n waarderende gedig by die afsterwe van advokaat Strijdom (of so raai ek, want wie kan dit anders wees?).
“Maar met dit alles het ons geen poësie nie, alleen grondstof vir poësie. Meer as lewensmateriaal en die bewerking daarvan is nodig om roustof poësie te laat word. Daarvoor is nodig (om maar een ding te noem) om te weet waar en wanneer ’n gedig moet ophou. Die skrywer gee telkens blyke fat hy hierdie elementêre kennis (en tog so ’n moeilike, toegegee) nie het nie. Die gedigte staan feitlik almal hopeloos te oop aan hul eindes.”
Vir Van Rensburg was daar net ’n paar reëls in die bundel wat vir hom die moeite werd is. ’n Paar kom uit die gedig ‘Begrafnis’:
Ons-goed … dáár éenkant teen die wind
in ’n gerfie hartseer saamgebind.
Die ander een waarvoor hy waardering het, is ’n hele gedig, maar ’n korte, “in die lig van die digter se onvermoë tot die bou van ’n samehorende geheel”:
Hy het ’n kluitjie spuug en grond
gepleister aan my blinde wond;
toe kon my nuutgeskape oë meet
dit wat my blye hart réeds weet …
“Maar dit is dan ook iets soos hierdie wat verwagting vir die toekoms wek,” het Van Rensburg sy resensie mee afgesluit.
In Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, 2 (Academica, 1983, bl 292) skryf JC Kannemeyer as volg oor die bundel: “Lionel Sheldon se Weeklaag van die wese (1960) word ontsier deur rymdwang, swak woordkeuse en onbeholpe strukturering, terwyl die invloed van Van Wyk Louw se Klipwerk te opsigtelik aanwesig is.”
In Huisgenoot (7 April 1961) is AP Grové die resensent en ook hy is afwysend oor die bundel: “Die opset is pretensieus, die woordkeuse onsuiwer, die vorm onbeholpe. Ook word die taal meermale geweld aangedoen. Wel is daar ’n sterk aandrif, maar dié kom selde by ’n oortuigende en bevrydende woord. Poësie is hier dus skaars, maar darem nie heeltemal afwesig nie [en dan noem hy dieselfde gedig as FIJ van Rensburg, naamlik ‘Begrafnis (van Baas Fanie)’].
“Maar wat ook teen hierdie bundel ingebring kan word, daar is ten minste een gedig wat die naam gedig waardig is: ‘Voorgevoel tot begrafnis (deur Oompie Tys)’.
“Hier is naklanke uit Van Wyk Louw se Klipwerk (as ‘naklank’ hier die regte woord is), maar dié is in ’n groter patroon ingewerk, en so het die gedig ’n waardevolle bydrae geword. Twee strofes ter illustrasie:
Ou beenbek roep die dag
O! Ou beenbek roep die dag
môre kom daar neukery
so slaan maar nou jou slag …
… die kat-oog swem vol dou
O, die kat-oog swem vol dou
die dood blý maar ’n bitter ding
was meid maar so getrou …”
Lionel Sheldon is in 1997 oorlede.
Publikasies
Publikasie |
Weeklaag van die wese |
Publikasiedatum |
1960 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Artikels oor en deur Lionel Sheldon beskikbaar op die internet:
- Kannemeyer, JC. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. 2. Pretoria: Academica, 1983
- Lionel Sheldon
Lionel Sheldon se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2021-08-18 gepubliseer.
Bron:
- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Lionel Sheldon (1927–1996) appeared first on LitNet.