Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 321

Karel Benjamin (1928–2002)

$
0
0

Gebore en getoë

Karel (Oom Kallie) Benjamin is op 17 Februarie 1928 in die Akkers in Goodwood in Kaapstad gebore. Hy en sy ma woon op die hoek van Akkerweg en Townsendstraat totdat hy ses was. Daarna is hulle na Distrik Ses.

Sy wedervaringe gedurende sy vormingsjare daar is die hooftema van sy eerste boek, Staan uit die water uit! As twaalfjarige bly hy tydelik saam met sy ma, ’n huishulp, in Seepunt, maar dit was eers na sy ouers se dood in 1948 dat hy Kaapstad vir goed sy woonplek gemaak het.

Karel gaan in Goodwood en Distrik Ses skool en was baie lief vir die skool wat hy bygewoon het. Dit was dus ’n hartseer dag toe hy die skool na standerd ses moes verlaat om te gaan werk.

Karel vertel in ’n onderhoud aan Suzanné du Preez in Keur van 10 Januarie 1997 dat hy so lank hy kan onthou, rympies en toneelstukkies “vir die plesier” geskryf het. “Ons jonges was ‘jolly’ en het onsself vermaak. Saans het ons musiek gemaak en baie gelag. Ons het tog te graag na die meisies geloer, maar wat, ons was nog bobbejaankêrels daardie tyd.”

Verdere studie en werk

Om geld te verdien gaan werk Karel ná standerd ses en oor die jare het hy by die Spoorweë in Soutrivier en by die Goodwoodse Munisipaliteit gewerk. Hy doen ook bou- en verfwerk oor die hele Kaapse Skiereiland. Hy het help bou aan winkelsentrums en groot hospitale.

Daar was egter altyd woorde en gedagtes in sy kop, vertel hy aan Suzanné du Preez (Keur, 10 Januarie 1997). Altyd, waar ook al, in die trein of in die geselskap, maal daar gedagtes wat hy wil neerskryf. “Dit is omtrent soos water wat in die rivier vloei. Jy weet, dit droog nooit op nie. Dit hou net aan.” Wanneer die drang om te skryf hom oorval, skryf hy op enige stuk papier wat hy kan vind. Die voltooide en soms halfvoltooide stukkies bêre hy jare lank in ’n bruin skooltas onder sy bed.

Voordat Karel se werk gepubliseer is, het hy nie net gedigte geskryf nie, maar ook lirieke vir gospel-liedjies, kinder- en Maleierkore. ’n Neef van hom het die musiek vir sy lirieke geskryf. Hy was ook die skrywer van ’n drama, Breek nie ons hart, wat deur ’n kerkgroep opgevoer is.

Dit was terwyl hy aan Klaas Steytler en Elsa Joubert se huis in Onrus geverf het dat sy deurbraak gekom het. Hy het gesien dat hulle albei sit en skryf en eendag “sommer ietsie vir hulle geskryf”. Hulle was verras en het hom aangemoedig om sy werk aan ’n uitgewer te gee. Deur hulle toedoen kom hy toe met sy skooltas vol flenters papier by Kwela Uitgewers en Annari van der Merwe uit. Die manuskripte, “lirieke en plays”, soos hy hulle genoem het, is nooit gepubliseer nie, maar Staan uit die water uit!, ’n bundel outobiografiese vertellinge, verskyn in 1996 by Kwela. Sy manuskrip is in potlood “op ’n doodgewone stuk Croxley” geskryf. Later het hy sommer sy verhale in Kwela se kantore met die hand sit en skryf.

Klaas Steytler skryf in ’n brief in Die Burger dat hy Karel se eerste stuk skryfwerk onder oë gehad het en dat dit een soliede stuk was – sonder komma, punt of paragraaf, wat toe deur die uitgewer geredigeer moes word, vir almal se gerief. Vir Klaas was dit ’n soort deurbraak om op grondvlak ’n weergawe, miskien ook ’n musikale weergawe, te gee van die Kaapse bruin gemeenskap voor die Tweede Wêreldoorlog. “Die verhale is minuskuul maar baie lewendig, sienbaar en hoorbaar ...”

Na die publikasie van Staan uit die water uit! kon Karel bars van trots. Soms het hy sommer alleen die berge ingestap om aan die Here dankie te sê vir wat met hom gebeur het. “Ek is lus en druk die boek tot binne-in my hart. Ek kan nie glo my woorde staan in ’n boek nie!” sê hy aan Suzanné du Preez. Oom Kallie kán staaltjies te vertel en kán dinge op ’n baie snaakse manier in regte Kaapse Afrikaans sê. Daar is nie politiek in sy stories nie - hy vertel net van ’n tyd en ’n manier van lewe wat gevra het om opgeteken te word.

Hans du Plessis skryf in Beeld van 4 November 1996 dat Staan uit die water uit! ’n stuk Afrikaanse prosa is wat nie net lekker lees nie, maar wat ook die oogklappe van sy bestaan oopgeskryf het. "Hier is ’n bruin Afrikaanse skrywer aan die woord wat vlot en gemaklik vertel van die gemeenskap waarvan hy deel is. Sonder wroeging, sonder groot politieke oordele of filosofiese bagasie vertel Benjamin die ding soos hy hom beleef het. Perspektiewe, ’n ander soort deernis, kry hierin dan gestalte."

In Die Burger van 30 Oktober 1996 sê Heindrich Wyngaard dat Karel Benjamin net wil stories vertel en "hy kry dit meestal reg om die leser te laat 'sien' hoe dinge gebeur. Saam te voel. Die boek se omslag is ook die lewendigste wat ek in tye gesien het en dít al klaar maak ’n mens lus om te lees."

Vir Hein Willemse (Insig, Julie 1997) is die beeld wat Benjamin van die mense na aan hom skets, ’n intieme een en hy slaag daarin om hierdie vertellinge wat ’n sterk mondelinge agtergrond het, met groot sukses op skrif te stel. Daarvoor moet hy dankie sê vir sy natuurlike skryftalent.

Willemse skryf verder: "Benjamin se vertellinge eggo die ervaringe van duisende swart stedelinge: nie net in die verlede nie, selfs vandag nog. Elke boek soos hierdie maak die Afrikaanse leeswêreld minder eensydig. Die herkenning van hulself kan meer mense aanspoor om in Afrikaans te skryf, selfs Afrikaanse boeke te koop, sodat die syfer vir ’n topverkoper aangepas kan word."

Oor Skrywers en boeke van die destydse Radiosondergrense (19 Januarie 1997) bespreek Wium van Zyl Staan uit die water uit! Vir hom is een van die baie pluspunte van hierdie boek dat die leser nie net saam met Kallie sy verskillende lewenstadiums meemaak nie, maar ook bekendgestel word aan gebruike en maniere wat vandag nie meer bekend is nie of reeds uitgesterf het. Vir Van Zyl is die newetitel van AHM Scholtz se Vatmaar - ’n lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie - ook toepaslik op Benjamin se storie.

Van Zyl is van mening dat Staan uit die water uit! ’n eensydige, bitter boek kon gewees het, maar gelukkig het dit nie so gewerk nie. Soos Abraham Phillips en AHM Scholtz se verhale is daar "nuanse en grootsheid". Daar is ook ’n oormaat aan eiesoortige uitdrukkings wat vir Wium van Zyl veel plesier verskaf het. Daar is ’n lys van woorde en uitdrukkings wat ongewoon is en dit bevestig weer watter bydrae Kwela Boeke en Benjamin gelewer het om Afrikaans te verryk.

Staan uit die water uit! is deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement voorgeskryf vir graad 10. In 1996 is Karel saam met EKM Dido deur die Afrikaanse Skrywersvereniging vir hulle debuutpublikasies vereer.

In 1999 word Karel se tweede boek, Pastoor Scholls trek sy toga uit, ook by Kwela gepubliseer. Hieroor skryf Joan Hambidge in Die Burger van 8 Desember 1999: "Dit is verhale wat die Kaaps-Afrikaanse leefwêreld weergee en die verhale is geskryf om die illusie te skep dat ons dit hoor. Die oratuur is dan belangrik in hierdie soort vertelling in ’n gemeenskap waar die bobaas-storieverteller vir die gehoor verhale ter stigting en vermaak vertel. Oom Kallie is die alter ego van die skrywer Benjamin, en dit gaan hier om herinneringe en outobografie. Orals 'hang daar stories' en vertellinge wat vir die niebruin leser dikwels insig gee in ’n bestaan van swaarkry en uithou."

In 2001 het Karel opgetree by die Kultuurhistoriese Kongres in Welgemoed in Bellville, waar hy gepraat het oor die leefwyse in Goodwood in die veertiger- en vyftigerjare.

Karel het besef dat sy skryftalent ’n gawe van die Here is, en om sy dankbaarheid te bewys het hy naweke as prediker op die treine gewerk om verlore siele te probeer werf. En soms het hy berg toe gegaan. Sy woorde is later nie meer in die bruin skooltas onder sy bed gebêre nie, maar saamgevat in netjiese paragrawe vir almal om te geniet, en vir hom was die heel lekkerste om sy naam voor op die buiteblad te sien.

Op 19 November 2002 is Karel Benjamin in ’n tehuis vir bejaardes oorlede. By sy begrafnisdiens het Annari van der Merwe gesê: “Oom Kallie was ’n natuurlike verteller met ’n aanvoeling vir die dramatiese en humoristiese. Sy lewenservaring en die mense wat hy teëgekom het, het hom sulke ryk stof gebied dat hy daaruit sy staaltjies kon skep.” Die lyn wat deur al die huldeblyke geloop het, is dat hy altyd reg was met ’n interessante geselsie, ’n grap en bemoedigende woorde – aldus Heindrich Wyngaard (Die Burger, 26 November 2002)

Publikasies:

Publikasie

Staan uit die water uit!: ’n Kaapse jeug

Publikasiedatum

1996

ISBN

079570030X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Outobiografiese vertellinge

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pastoor Scholls trek sy toga uit en ander stories

Publikasiedatum

1999

ISBN

0795700946 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels deur Karel Benjamin beskikbaar op die internet

Artikels oor Karel Benjamin beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Karel Benjamin (1928–2002) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 321


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>