![]() |
Sêgoed van Fanie Viljoen "Die stories meld hulle by my aan en dan moet, en is ek dit aan hulle verskuldig, om dit op papier te kry. Oral waar ek kyk, sien ek stories. As ek nie skryf nie, sal ek mal raak." (Rooi Rose, Maart 2006) Hoekom skryf hy vir kinders? "Enigiets is vir kinders moontlik. In ’n kinderboek kan varke vlieg. Grootmense hou nie van vlieënde varke nie. Hulle hou van reëls en realiteit. Kinderboeke maak ’n mens se kop weer oop. Dit laat jou weer jonk dink." (Volksblad, 20 Augustus 2004) "Ek lees tienertydskrifte, kyk na hulle televisieprogramme en luister na hulle musiek om hulle psige te leer ken. Ek luister ook af as hulle praat. Dis ’n baie vreemde teikengroep om voor te skryf. Ek dink daarom verskyn min boeke vir tieners. Ek sal eendag ophou met tienerboeke wanneer ek tieners nie meer verstaan nie." (Volksblad, 6 September 2008) "Jy kry stories oral om jou. Iemand sê of doen iets wat jou inspireer om iets te skryf. Dit is soos Stephen King sê: Skrywers speel die what if-speletjie." (Die Burger, 6 Julie 2009) Oor sy karakters: "Ek het ’n liefde vir karakters wat ’n mens nie elke dag ontmoet nie en die sielkunde agter hul denkprosesse. Ek wil skryf oor die karakters waarteen jou ma jou gewaarsku het." (Stronk, 15 Julie 2015) "Die tergende, raaiselagtige element van die storielyne in sy boeke kom natuurlik. Ek hou daarvan om myself te vermaak wanneer ek skryf. As ’n verhaal waaraan ek werk dus ’n verrassing oplewer, is ek baie tevrede." (Stronk, 15 Julie 2015) "Afrikaans is besig om te verander. Tieners wat hul taal met Engelse woorde meng en met nuwe woorde vorendag kom, is alles deel van die evolusionêre proses wat Afrikaans ondergaan. Die taal moet vir jong mense werk. Hulle gaan nie wag vir ’n diepgeleerde mens om te sê dit is aanvaarbaar om die woord 'cool' te gebruik nie." (Volksblad, 5 Julie 2014) Die verskil tussen skryf vir tieners en skryf vir volwassenes: "Ek dink nie dit gaan oor makliker of moeiliker nie. Jy kan ’n meer verwikkelde verhaal vir volwassenes skryf en jy het die vryheid om meer te waag met die roman, veral met die sensuele." Een van sy skryfgeheime: "Lees! Lees! Lees! As jy wil skryf, moet jy lees!" (Die Burger, 14 April 2014) Voel dit soms vir hom asof sy karakters later hul eie storie skryf? "O ja. Die karakters begin met jou praat. Ek het vooraf probeer beplan aan my storielyn vir BreinBliksem, maar ek het myself vasgeskryf. Burns het sy eie storie begin vertel en hy wou nie in die rigting gaan wat ek wou gaan nie. Jou karakter praat en jy moet tik." (Onderhoud met Herman Eloff op Storiewerf) Hoekom kinders moet lees: "Die Red Bull-advertensies sê: 'Red Bull gives you wings!' En ek glo dieselfde geld vir stories. Dit laat jou na bekende en onbekende plekke vlieg. As jy ’n storieboek in jou hande het, sal nie jou huis se mure of jou elektriese veiligheidsheining jou kan keer nie. ’n Kind wat lees, kan vir ’n tyd lank ’n ballerina of ’n Springbokrugbyspeler word. ’n Held of ’n monster. Hy kan saam met ’n klomp muise die ruimte invaar of saam met ’n wurm in ’n paddakonsert sing." (Rapport, 20 April 2006) Hoekom is dit so belangrik dat ouers vir kinders moet voorlees? "Ouers is die eerste mense wat ’n kind se verbeeldingswêreld kan oopmaak. Hier word boeke soos Harry Potter se towerstaf. Jy kan die magic in jou kinders se drome en gedagtes bring. In daardie tye wat jy vir ’n kind voorlees, word jy self ook ’n kind wat aan reuse en dwerge glo. Jou kind sal nooit hierdie saamleestye vergeet nie. Jy ook nie, want dit gaan nie net oor lees nie, maar ook oor die liefde." (Rapport, 20 April 2006) Is hy ten eerste skilder of skrywer? "Die skryfwerk word deesdae ’n voorkeur vir my. Ek werk aan verhale vir ’n reeks skoolboeke. Ek is ook baie gelukkig om die illustrasies vir ses van die boeke te doen. Die skryf en skilder kom dus bymekaar met hierdie reeks." (Volksblad, 4 Augustus 2008) Jaco Jacobs wou by Fanie weet wat hy omtrent skryf geniet en wat nie: "Ek geniet die verbeeldingsvlugte waarop ek kan gaan. In my wêrelde kan volstruise vlieg en wurms saam met paddas skoolgaan. Maar die herskryf is sleg. Veral as jy dit moet doen lank nadat jy die storie in jou kop klaargemaak het en al begin skryf het aan iets nuut. Dit is waarom ek seker maak dat ek hou van die verhaal en karakters, want ek weet as ek eers met hulle begin, gaan ons mekaar nog lank geselskap moet hou." (Taalgenoot, Februarie 2009) "As ek vir die res van my lewe in enige boek moes deurbring, sou ek graag Pippie Langkous se ander buurman wou wees. Ek wil ook op haar perd se rug ry en koffie drink in die boom." (Taalgenoot, Februarie 2009) "Ek het nooit mense geglo wat vir my gesê het ek sal dit nooit as kunstenaar en skrywer maak nie. Toe ek begin skryf en skilder, het mense gesê jy kan nie ’n bestaan daaruit maak nie. Ek het net aangehou. As jy drome het, moet jy dit najaag ongeag wat ander mense sê. As jy glo jy kan dit doen, dan sal jy. Moenie moed opgee nie. Jy moet ’n passie hê vir wat jy doen." (Volksblad, 14 November 2011) "Skryf verveel my nooit nie. Dis soos asemhaal. En ek het nooit ’n tekort aan idees nie, die grootste probleem is watter een om volgende te kies." (Volksblad, 16 September 2014) Verskil tussen kinder- en jeugliteratuur: "In kinderliteratuur is fantasie en wilde verbeeldingsvlugte ’n groot element. In jeugliteratuur skemer ’n groter realiteit deur, met minder fantasie." (Bron) |
Gebore en getoë
Hendrik Stephanus (Fanie) Viljoen is op 2 Januarie 1970 in Welkom gebore waar hy grootword, skoolgaan en in 1987 aan die Goudveld-Hoërskool matrikuleer.
Fanie se ouers is Thys en Bets Viljoen. Sy pa het op die spoorweë begin werk. Hy was later ’n hysmasjinis by ’n myn in Welkom. Sy ma is ’n huisvrou. Hy is die middelste van drie kinders – Cecilia is die jongste en sy skryf ook en sy oudste broer is Neels.
Fanie het sy laerskooljare aan die Dagbreek Laerskool op Welkom deurgebring waar daar ’n hele paar onderwysers was wat hom aangemoedig en geïnspireer het, veral sy houtwerkonderwyser, meneer Malan en sy onderwyseres in graad 1, mevrou van Heerden. In graad 3 was mevrou van Pletzen sy onderwyseres en sy was die inspirasie agter juffrou Beneke in Geraamte in die kla.
Die skryfgogga was op hoërskool heeltyd daar, vertel Fanie aan LitNet. "Toe ek die eerste A vir ’n opstel by mevrou Groenewald kry, was die koeël seker deur die kerk. Ook meneer de Bod het my aangemoedig, maar dit was veral doktor Anita Fourie wat my destyds en steeds verskriklik ondersteun het. Die skool het jaarliks ’n boekie Uit die skrywerskan uitgebring. Die beste opstelle wat die jaar by die skool geskryf is, het daarin verskyn. Dit het my ook aangemoedig."
Toe hy in matriek was, het hy ’n aanmoedigingsprys gewen in die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse skryfkompetisie.
Fanie vertel aan Vicus Bürger (Volksblad, 5 Julie 2014) dat hy ’n nerd en ’n outsider op skool was – een van die leerders wat nie sport gedoen het nie, maar op die redaksie van die skoolkoerant gedien het. Dit is ook waar hy met kuns te doen gekry het. "Die kunsklas was vir my ’n wegkruipplek - dit was die plek waarheen ek en die ander buitestanders van Goudveld-Hoërskool gevlug het.
"Ek het goeie opstelle op skool geskryf, maar ek het nooit toe gedink dat ek ’n skrywer sou word nie."
Daar is baie dinge wat Fanie uit sy kinderdae onthou en waarvan hy meer vertel in sy stuk "Ek onthou" in Spoorvat: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers (saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn; LAPA, 2013).
"Ek onthou ’n groen verjaardagkoek met renmotors. En ’n wêreld wat toe nog so groot was dat jy daarna moes opkyk. Ek onthou ’n kamer met ’n blinknuwe fiets langs die bed, die nuuskierige bure wat by die draad staan en lag terwyl ek vallend leer fiets ry. (...)
"Ek onthou die sirkustent, opgeslaan in die stowwerige veld voor die goudmyn in Welkom. Die olifante het aan voetkettings geboei gestaan en die leeus het in stink hokke gelê en lui rondgekyk. Tydens die vertoning het een van hulle sy blaas op my broer in die voorste ry leeggemaak.
"Die sirkus het ’n betowerende wêreld vir my laat oopgaan. Ek onthou hoe my broer ná die vertoning ’n swaai aan die reusebessieboom voor in ons tuin opgehang het. Met skouermantels aan het ons op die drietrapleer gestaan en die sweefstokartieste probeer nadoen, totdat die leer onder my voete weggeskiet het. Ek het op my rug beland. Hard. Ek onthou hoe ek gesukkel het om weer asem te kry. My loopbaan as sirkusarties was daarmee heen, maar die betowering het gebly. (...)
"In graad 1 was ek in die hospitaal. Ek het gedink ek gaan nooit leer lees as ek in die hospitaal bly nie. My gunstelingtyd in graad 2 was wanneer die onderwyseres ons geroep het om voor in die klas op die mat te kom sit. Sy het dan vir ons stories gelees en prente gewys.
"Ek moes die graad 2-juffrou teen jaareinde vra van watter parfuum hou sy. Ma wou dit vir haar koop as geskenk. Ek was bang om met die juffrou te praat. Toe ek uiteindelik moed bymekaarskraap, het ek haar gevra van watter paraffien sy hou. Sy het gemoedelik gelag en 'Charlie' geantwoord.
"Ek onthou ek het ’n boek gesteel uit die standerd 1-juffrou se leesboekrak. Niemand het daarvan geweet nie en ek het myself probeer wysmaak dat die juffrou nie sou omgee nie. Dit was ’n boek oor ’n heks. Die mense wou haar wegjaag uit die dorp, toe laat sy klippe op hulle reën. (...)
"Aan die einde van standerd 3 het die juffrou vir my die boek Die klein kaptein in die Land van die Sewe Swaar Take as geskenk gegee. ’n Juffrou met wenkbroue soos die heksma in Snow White and the seven dwarfs-fliek het ons in standerd vier met die voorpunt van ’n visstok geslaan.
"Ek onthou ’n ander juffrou het later in haar plek kom aflos omdat die heksjuffrou swanger was. Die nuwe juffrou was van die Kaap. Toe ons ’n dikteertoets moes skryf, het sy ’n sin gegee soos: 'Die seun ry op ’n fiets.' Sy het nie '’n' gesê nie, maar 'hin'. Sy moes die sin ’n paar keer herhaal, maar nie een van ons Vrystatertjies het geweet watse ding ’n 'hin' is nie. (...)
"Ek onthou hoe sleg ek gevoel het op die laaste laerskooldag. My pa sou my ná skool kom haal, maar hy was laat. Ek het alleen voor die skool gestaan. Die wêreld was nog groot, maar nie meer so groot soos vroeër nie. Ek het daar op die stowwerige sypaadjie vir my pa gestaan en wag en dink oor die jaar wat kom. Hoërskool was glo ’n vreeslike plek. Jy moes vinnig kon skryf om in eksamen betyds klaar te maak. Die eerste week word jy ingesout. Jy is nie meer die grootste in die skool nie, jy begin weer onder.
"Maar die ergste van alles was seker dat al my vriende die volgende jaar na dieselfde hoërskool toe sou gaan. Ek het ’n ander hoërskool as hulle gekies net omdat dié skool kuns as ’n vak aangebied het en ek dit graag wou neem.
"Bang - so het ek op daardie laaste laerskooldag op die sypaadjie gevoel. Nuwe goed doen dit mos aan mens. Nuwe skole ook. Jy weet nie hoe die kinders of onderwysers daar sal wees nie. Jy weet nie of hulle vreemde woorde soos 'hin' gebruik nie."
Verdere studie en werk
Ná skool het hy as kassier in die destydse Volkskasbank gewerk voordat hy sy twee jaar-diensplig in Kimberley, Oshivello en Lohatla gedoen het. In 1990 begin hy deeltyds by Sanlam werk as opleidingskonsultant. Gedurende hierdie tyd begin hy op ’n deeltydse basis in die grafiese kunste studeer aan die Tegniese Kollege in Welkom (1993-1995). Hy behaal die N6-sertifikaat in 1995. In 2002 behaal hy sy BA-graad in sosiale wetenskappe en sielkunde aan Unisa.
Fanie bevind hom toe in Bloemfontein waar hy by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) aansluit. Tot op daardie oomblik was skryf vir hom net ’n stokperdjie totdat Jaco Jacobs, die jeug- en kinderboekskrywer, in sy lewe beland het. Jaco het Fanie aangemoedig en geïnspireer om ook ’n heeltydse skrywer te word en net daar verander Fanie se hele lewe. Na sestien jaar by Sanlam waar hy administratiewe werk gedoen het en personeel opgelei het, besluit hy in 2006 om voltyds te begin skryf en vir die Afrikaanse kinder- en jeugboekleser was dit die beste besluit wat hy kon geneem het.
Sy besluit om voltyds te skryf, was ’n "skrikwekkende sprong," vertel hy aan Johan Brits (Volksblad, 6 September 2008). "’n Mens word mos grootgemaak om ’n vaste werk met medies en pensioen te hê. Ek is nie ’n oomblik spyt nie. In die twee jaar was daar nog nie een dag wat ek gewonder het wat ek vandag gaan doen nie. Goed kom oor jou pad waarvoor ek nie kans gehad het toe ek heeltyds gewerk het nie. Ek werk nogal hard aan ’n leesreeks vir laerskole. Dit is 30 boeke waarvan die illustrasies en skryfwerk gedoen moet word."
Sy eerste kortverhaal het in 1999 in Sarie verskyn en daarna het nog publikasies en tydskrifte en boeke gevolg. Fanie is ook ’n kranige skrywer van radiodramas. In 2000 is sy radiodrama Die losprys met die tweede prys bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie vir beginners en in 2001 is Oupa Rooijan kry ’n girlfriend uitgesaai. In 2002 loop Agter geslote deure weer met die tweede plek weg in dieselfde kompetisie, maar hierdie keer in die kategorie vir ervare skrywers.
In 2004 verskyn Fanie se eerste boek by LAPA met die titel Slym: die wêreld se eerste wurm in ’n paddakonsert. Fanie, wat al vanaf graad 9 kuns op skool geneem het, het ook die illustrasies vir Slym gedoen. Die eerste verhaal van Slym is in 2007 opgevolg met Slym en die gogga-sirkus en in 2009 het Slym en die beker van geluk verskyn. Slym en die gogga-sirkus is deur graad 1-3 lesers in 2008 aangewys as die wenner in dié spesifieke kategorie van die ATKV-kinderboektoekennnings.
Slym vertel die storie van die wurm wat aspirasies gehad het om deel van die paddakoor te wees en is vreemd en kreatief, maar interessant en net so verbasend fassinerend soos die skrywer, skryf Suzanne Venter in Rooi Rose (Maart 2006). Tydens die Volksblad-kunstefees in 2005 is ’n verhoogverwerking van Slym op die planke gebring.
Oor kinders en jong mense se leesgewoontes vertel Fanie aan Johan Brits dat hulle nie soveel lees soos wat hulle as skrywers graag sou wou hê nie: "Ons is ’n paar skrywers vir wie dit ’n passie is om kinders aan ’t lees te kry. Boeke moet verbeeldingryk wees. Elke storie moet twee elemente hê: humor en spanning. As kinders eers begin lees, hou hulle aan. Hulle soek jou boeke en wil nog van jou goed lees."
In 2005 tref Fanie se eerste boek vir tieners die boekrakke. BreinBliksem het almal aan die praat gesit én tieners aan die lees gesit. Behalwe die MER-prys vir jeuglektuur vir 2005 het Fanie ook die Sanlam-prys vir jeuglektuur (goud) met François Bloemhof gedeel. Dit was vir Fanie ’n groot lekkerte en eer om hierdie prys met Bloemhof te deel aangesien Fanie se eerste gepubliseerde kortverhaal deur François Bloemhof aanvaar is toe hy verhaleredakteur van Sarie was. Fanie het ook skryfkursusse onder leiding van Bloemhof gedoen.
Die agterblad waarsku lesers dat hierdie nie vir "sensitiewe lesers" is nie. En voorin is daar ook ’n lang waarskuwing wat die lees van hierdie boeke aan jou kan doen.
Fanie sê aan Arnold Vermaak (Die Burger, 24 Augustus 2005): "As ék so iets voor in ’n boek raaksien, sal dit my dwing om die boek te lees."
BreinBliksem vertel die storie van drie ouens van Bloemfontein, Burns, Kerbs en Sky wat planne beraam om die BreinBliksem-rockfees by Allemanskraaldam in die Vrystaat te gaan bywoon. ’n Paar dae voordat hulle sou vertrek, kry Sky ’n epileptiese aanval in die kuierplek Mystic Boer in Bloemfontein. Hy vertel aan Burns dat hy gedurende die aanval in ’n visioen bloed gesien het. Hy voel dat dit ’n waarskuwing is dat hulle nie na die rockfees moet gaan nie.
BreinBliksem se inspirasie is afkomstig van rockfeeste wat Fanie al bygewoon het, vertel hy aam Willemien Marais (Volksblad, 23 September 2005). "Ook van die musiek wat ek geluister het terwyl ek besig was om te skryf. Musiek soos Linkin Park, Limp Bizkit en die White Stripes."
Fanie het talle skoolbesoeke gedoen om reklame vir die boek te doen en die graad 11-leerders het die boek met groot entoesiasme ontvang. Fanie het kritiek verwag op die boek, maar vir hom gaan dit oor wat die tieners en jong volwassenes wat die idioom van die boek sal verstaan, daarvan gaan sê.
Fanie het met die skryf van BreinBliksem gehoop dat die boek deure sou oopmaak vir jong skrywers om hulle stories te vertel. "Ek dink dit gaan ’n paar grense verskuif. En die uitgewers soek almal boeke vir die tienermark. Dink net waar kan ons oor ’n paar jaar staan as ons jeugboeke so ’n opbloei beleef soos wat tans die geval is met Afrikaanse musiek! (Dit was in 2005.)
"BreinBliksem is egter nie net ’n tienerverhaal nie. Die boek is gerig op jong volwassenes en enigiemand wat jonk van hart is. Daar is ’n neiging om meer vir ’n crossover-mark te skryf. ’n Mens sien dit ook in Engelse boeke."
Die Sanlam-skryfkompetisies het elke keer ’n tema waarom die verhaal gebou moet word en in 2004 was dit musiek. Fanie self bespeel nie ’n musiekinstrument nie, maar sy kennis van beide plaaslike en oorsese musiek is indrukwekkend. Elke hoofstuk van die boek is getitel soos ’n snit van ’n musiekalbum en Arno Carstens, Prime Circle en Wonderboom is deelnemers aan die rockfees.
Fanie vertel aan Suzanne Venter (Rooi Rose, Maart 2006) dat hy die boek amper nie ingeskryf het vir die Sanlam-prys vir jeuglektuur nie. "Gedink dit is te rof, maar toe dink ek, hoekom nie? Daar is in elk geval niks in die boek wat kinders nie op TV kan sien nie! Ek wou nie graag Chris Burns, die hoofkarakter, se siening van die lewe sugarcoat nie. Ek wou die storie skryf in ’n taal wat tieners sou verstaan en wil lees. Ek skryf vir ’n TV-geslag. Jy moet hulle aandag vinnig kry en behou. Die storie moet aangrypend wees, in kort hoofstukke, want dit beïnvloed die manier waarop ’n mens lees."
Om die boek se titel in die hande te kry, het Fanie gesoek na ’n Afrikaanse woord om die headbang-aksie, dis nou as jy staan/dans en jou kop op en af en heen en weer skud, te beskryf. "BreinBliksem pas ook by die storie en die tienerfase in; hul breine word heeltyd met inligting en keuses 'gebliksem'," verduidelik hy aan Venter.
In Die Burger van 15 Oktober 2005 skryf Mariana Loots dat Viljoen se skryfstyl gemaklik is en die in your face-styl verfrissend is. "Die storie ontwikkel vinnig. En ’n ontnugterende wending 'breinbliksem' die leser behoorlik. Maar dit dra slegs by tot die leesplesier: ’n aksie-belaaide jeugroman met ’n goeie skeut spookstorie en selfspot is nie te versmaai nie. Die grense van wat die karakters werklik sou doen, word hier en daar getoets. Maar wys die boek nie juis die menslike psige is bedrieglik nie? Meer gereserveerde lesers kan ontmoedig word deur die alternatief-spitsvondige taalgebruik, maar die doel heilig die middele. BreinBliksem is dalk vir volwassenes, maar beslis vir kinders."
Ook die tienerlesers was opgewonde en positief. In Jip, die skoolbylae van Die Burger (24 Oktober 2005) skryf Wortel Strydom dat dit ’n "vinnige, soms kru" storie is wat jou rondruk tussen die probleme van die hedendaagse tiener. "Die boek gee nie oplossings en raad nie – net ’n storie. Dit is verfrissend dat die skrywer nie ’n lieflike wêreldjie skets waar kinders nog kinders is nie. Hy tref redelik naby aan die werklikheid. Fanie Viljoen slaag daarin om op ’n maklik leesbare manier ’n televisie-agtige raaiselriller tuis te bring. Die tema lyk bekend, maar hy doen dit op sy eie manier."
Die verhoogverwerking van BreinBliksem deur Thys Heydenrych is in 2006 ingeskryf vir die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater. Heydenrych was ook die regisseur met Alec Debbo as Chris Burns.
Fanie verduidelik aan Suzanne Venter dat daar nie ’n spesifieke boodskap in BreinBliksem is nie. Hy brei uit: "Skrywers het dikwels hul eie agendas wat hulle aan lesers wil opdwing, maar ek het gevoel dat tienerprobleme baie kompleks is en dat daar nie altyd ’n antwoord is nie. Ek wou nie vir die lesers preek, of valse hoop gee nie. Jongmense soek nie netjies verpakte boodskappe nie. As jy vir hulle skryf, moet jy meeding met Playstations en DVD's. Daar is ook ’n gróót tekort aan tienerboeke – ek wou net graag vir hulle ’n goeie storie gee om te lees."
Ná die publikasie en die daaropvolgende sukses gaan Fanie voort om die een boek na die ander te skryf en te publiseer. Stories soos Geraamte in die klas, Slym en die gogga-sirkus, Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood, Nova, Klou, Grilbrigade, Spring, Plons, Lulu, Onderwêreld, Bravo en Oepse daisy, Lulu het almal weggeloop met die ATKV-kinderboektoekennings in hulle onderskeie kategorieë tydens die Woordveertjie-prysuitdelings. Twee van Fanie se boeke, Leeus met letsels en Uit, het ook op die IBBY-ererol vir onderskeidelik 2014 en 2015 verskyn.
Enkele uittreksels uit resensies van Fanie se boeke:
- Klits Kronkel-reeks: "Fanie Viljoen en Diek Grobler (illustreerder van Klits Kronkel) is ’n wenboekfabriek." (Rachelle Greeff, Rapport, 7 Desember 2008)
- Nova-wetenskapfiksiereeks (2012-2014): "Hoewel die Nova-reeks gewilde leesstof is, sal dit ’n fout wees om dit te onderskat. Naas lekker inhoud bied Fanie Viljoen se werk emosionele diepte, taalkundige en tegniese vernuf en relevansie deur aan te sluit by diskoerse oor wetenskapfiksie, wetenskap van die buitenste ruim, asook ruimtewesens en verwante samesweringsteorieë." (Mia Oosthuizen, Rapport, 19 Oktober 2014)
- Klou, ’n superheld met kolle (2011): "Met sy mooi kleurryke illustrasies is hierdie ’n oulike avontuurstorie vir selflees en voorlees," (Adéle Dempers, Volksblad, 2 Julie 2011)
- Grilbrigade (2011): "Fanie Viljoen begryp ook iets van hierdie kompleksiteit (tegnologie wat skrywers uitdaag om iets te skep wat jong lesers sal boei) met sy verhaal Grilbrigade, pragtig uitgegee deur Human & Rousseau en met skitterende illustrasies deur Luan Serfontein. ’n Uitstekende kinderverhaalskrywer en ’n uitmuntende illustreerder kom hier bymekaar in ’n boek wat lekker lees." (Joan Hambidge, Volksblad, 11 Februarie 2012)
- Jou Romeo (2016): "Jou Romeo is ’n liefdesverhaal vir tieners, met alles wat daarmee saamgaan: drama, humor, jaloesie en die kenmerkende hartstog van die jeug. (...) Die spanning is deurgaans snaarstyf. Die dialoog oortuigend, pittig en soms giftig. Die karakterbeelding is perfek. As jy die fliek misgeloop het, sal dié boek ruimskoots vergoed. As jy wel die fliek gesien het, lees die boek en beleef die lekker van voor af." (JB Roux, Die Burger, 30 Januarie 2017)
In 2008 het Fanie se vervolgverhaal vir kinders, Kaptein Hamerkophaai in Die Burger se kinderblad KleinB oor elf weke verskyn. Dit is in 2009 in boekvorm uitgegee. Fanie het vertel dat kinders in skole dikwels versigtig is om dom vrae te vra: "In hierdie verhaal word Devon gedwing om ’n dom vraag te vra: 'Moet seerowers ook skool toe gaan?' Net nadat die vraag gevra is, maak Kaptein Hamerkophaai sy verskyning in die klas."
In 2015 was Fanie en sy boek Onderwêreld in die nuus toe dit bekend gemaak is dat hierdie boek die enigste is wat voorgeskryf is vir die matrieks van 2016, terwyl daar vroeër altyd ’n lys van werke was waaruit skole kon kies. Ook het sommiges gemeen dat Onderwêreld nie voldoen aan matriekstandaard nie aangesien dit alreeds op graad 8-vlak met leerlinge bespreek is en dit vir graad 10 in Afrikaans as eerste addisionele taal deur die IEB voorgeskryf is.
Hieroor het Fanie aan Ruan Bruwer (Volksblad, 15 Julie 2015) gesê dat hy veral omgekrap was oor Sonja Loots se kommentaar in Rapport dat die moeilikste woord in die boek "netwerkkabel" is. "Sy het duidelik nie die boek gelees nie, want dis nié die moeilikste woord nie. Onderwysers is wel met rede omgekrap omdat daar nie ’n keuse aan skole gelaat is nie."
Oor die dikte van die boek het Fanie aan Bruwer genoem dat die skooluitgawe uit 300 bladsye bestaan wat ’n kort studiegids insluit. "Dit beslaan 60 000 woorde. Dit lyk dun omdat die font klein is. Ek het gehoor matrieks sê hulle kry nie tyd om deur ’n hele boek te lees nie. Dis te dik, te kompleks en verveel hulle. Onderwêreld is geskryf met verskillende lae, as jy in die boek se derms gaan krap, sal jy op ander temas afkom."
Fanie het op daardie tydstip beplan om ’n video te maak wat onderwysers in die klas kan speel sodat leerders self kan hoor waar die storie sy oorsprong gehad het, aangesien hy baie navorsing met die skryf van die boek gedoen het.
Fanie het by ’n bekendstelling van Onderwêreld meer vertel oor die ontstaan van die storie. "Die tema vir die 2007 Sanlam-prys vir jeuglektuur was tegnologie – 'n moeilike een vir my, want ek wou my doelpale skuif na BreinBliksem se publikasie in 2005. Ek het begin rondkyk vir interessante temas in die wêreld van tegnologie. Ek is glad nie 'n deskundige met rekenaars nie, maar kan myself darem help met dit wat ek gedoen wil kry – net genoeg om my uit die moeilikheid te hou. Toe kom ek af op die tema van hackers – of dan kuberkrakers.
"Ek het dadelik geweet dit is die onderwerp van my volgende boek. Ek het die idee laat broei in my agterkop en meer en meer op die Internet gesoek na inligting. Gou het ek besef dit is ’n ongelooflike fassinerende veld. Nog navorsing het gevolg en hoe meer ek oor die kuberkrakers uitgevind het, hoe meer het ek agtergekom dat ek eintlik baie min weet van rekenaars. Kuberkrakers toor nie met rekenaars nie, hulle mors met hulle – en hulle kan hulle selfs heeltemal opmors. Die navorsing het vir my gewys dat ek my storie sal moet ken as ek ’n boek wil skryf oor die skimme wat in die onderwêreld van die kuberruim rondbeweeg.
"Toe kom ek met 'n gelukskoot af op 'n artikel oor kuberkrakers, geskryf deur Justin Stanford, 'n Suid-Afrikaanse rekenaarspesialis. Ek het hom via e-pos in die hande gekry en hy was bereid om my te help met inligting. Deur Justin ontmoet ek vir Lance Micalson. Hy was betrokke by die opstel van die wet teen kuberkraking in Suid-Afrika. Hy was baie opgewonde oor die idee van die boek en gee my die besonderhede van twee regte kuberkrakers. Of dan ouens wat eens op 'n tyd kuberkrakers was. So tuimel ek dieper die onderwêreld in. Ek stuur e-posse aan die kuberkrakers en vertel wat ek met die storie beoog. Hulle lewer kommentaar, maak verbeterings en gee voorstelle.
"Nooit het ek die hele manuskrip vir een van hulle gestuur nie. Die paranoia het begin posvat. Die ouens was kuberkrakers ... sê nou net hulle kom op my rekenaar, gryp die dokument en sit dit op die Internet. Ek sit sleutelwoorde op my rekenaar en op die dokument self. Ek verander die sleutelwoorde op my Internetbank en sorg dat die virusprogram op datum is. Party dae wonder ek of ek skoon simpel is, want elke klein dingetjie wat op my rekenaar haak, laat my wonder ...
"In my navorsing gaan ek na webborde van Suid-Afrikaanse hackers. Ek skrik my koud as ek sien wat hulle doen. Hierdie is die plek waar hulle spog met hul prestasies. Een ou vertel hoe hulle war driving doen naby die Tygervallei-sentrum in die Kaap. Dit is wanneer krakers rondry met skootrekenaars en oop netwerke soek. Hulle vertel hoe hul ’n man dopgehou het terwyl hy sy e-pos aflaai. Toe is hy op die Internet. Hulle kon presies sien wat hy doen, waarna hy kyk ...
"Ek begin agterkom hoe hierdie ouens dink en stadig maar seker begin die kuberkrakers wat uiteindelik in my storie hul buiging moet maak, vorm kry. Ek gaan na webblaaie wat jou op ’n veilige manier leer hoe om sleutelwoorde te kraak. In die werklike lewe begin ek goed raaksien wat krakers hul lippe sal laat aflek – sleutelwoorde geskryf in mense se dagboeke, sleutelwoorde geplak langs die rekenaarmonitor by ’n bank se inligtingstoonbank. Ek vra mense wat ek teëkom of hulle rekenaars se sleutelwoorde in woordeboeke verskyn. Baie mense s'n is daar. Dit kan slegte gevolge hê. Ek besef die kuberkrakers is reg: jou maatskappy se rekenaars kan die beste sekuriteit hê, die beste virusprogrammatuur, die beste rekenaarkundiges, maar die swak plek in die skakel bly die mense wat die rekenaars moet gebruik. Elke rekenaar kan 'n teiken word. Almal is kwesbaar."
Onderwêreld vertel die verhaal van Greg Owen, hoofseun van ’n privaatskool, en sy vriendskap met Eckardt, wat in hulle matriekjaar by die skool aankom. Eckardt is ’n ingelyfde hacker en maak Greg touwys in die wêreld van rekenaar-hacking. Toe verdwyn Eckardt en Greg besef dat hy self sal moet ondersoek instel om uit te vind wie hom gevat het.
In Kaapse Bibliotekaris (September/Oktober 2008) skryf die resensent dat dit ’n uitstekende nagevorsde boek is oor ’n onderwerp wat baie jongmense ken en verstaan. "Die verhaal word knap verbeeld met ’n boeiende storielyn en verrassings in die ontknoping. Dit is fyn gekonstrueer met ’n opbouende spanningslyn en knap taalgebruik, wat die leser elke detail van die seuns se hacking met opgehoue asems laat volg en jou meesleur met elke draai van die intrige."
Op LitNet laat Herman Wiid hom as volg uit oor Onderwêreld: "Wat die storielyn betref is die wending aan die einde van die verhaal briljant, veral vanweë die feit dat dit die leser onverwags oorrompel. Ander positiewe punte van kritiek sluit in ’n goeie ontwikkeling van die hoofkarakter deur die loop van die boek tot ’n sterk volronde figuur wat sy mening uitspreek en sake in sy eie hande neem, ongeag wat ander dalk van hom mag dink.
"Viljoen het ook vir diegene wat na afloop van die verhaal daaraan dink om hulle hand aan ’n keyboard te slaan as newbie hackers, ’n vriendelike waarskuwing aangeheg in die vorm van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies aan die einde van die boek. Op hierdie manier vermaak die boek nie net nie, maar lig dit tieners ook in omtrent relevante sake in vandag se samelewing.
"Ten slotte kan daar gesê word dat Fanie Viljoen, wat bekend is daarvoor dat hy tieners op die punte van hulle stoele hou met sy naelbyt-rillers soos Spoke en ander gruwelike goed (2005), BreinBliksem (2005) en Miserella (2007), weer eens slaag met hierdie publikasie. Dit verdien ongetwyfeld Sanlam se Silwertoekenning vir jeuglektuur. Onderwêreld is nie net nog ’n verhaal van rekenaar-geekswat probeer cool wees nie, maar bly deurentyd boeiend en aksiebelaai terwyl die storielyn gemaklik van hoofstuk na hoofstuk vloei. Hierdie boek dra ook by tot ’n broodnodige nuwe tegnologie-genre in die Afrikaanse literatuur en beloof om enige Afrikaanse tiener hierdie vakansie voor die bladsye vasgenael te hou."
Die Noordwes-universiteit het "Oor die einders van die bladsy"-projek begin en professor Franci Greyling van die vakgroep Skryfkuns aan die NWU het Fanie gevra om in te val by die projek. Die doel daarvan is om lesers se begrip van wat ’n boek is met "kunsboeke" te verbreed.
Elke deelnemer aan hierdie projek kon self besluit hoe hy die boek gaan aanpak en wat die tema gaan wees. Fanie het vroeër ’n kortverhaal met die titel “Pynstiller” geskryf en hy het besluit om dit in ’n grafiese verhaal te verwerk, vertel hy aan Clarissa Grobler (Volksblad, 17 Augustus 2009). Die verhaal wat handel oor selfskending en spesifiek tieners wat hulself sny, is daarna bladsy vir bladsy op Facebook geplaas en mense kon daarop reageer soos die verhaal gevorder het. Fanie was self verantwoordelik vir die grafika wat lyntekeninge is wat hy skandeer het en dan op Photoshop verder gemanipuleer het.
In 2014 verskyn Pleisters vir die dooies waarin Fanie kyk na ’n skoolskietery in Suid-Afrika en waarin hy weer eens ’n onderwerp aanpak wat selde in Afrikaans aangepak is. Dit sluit aan by sy boeke soos BreinBliksem waarin daar na psigotiese versteuring gekyk word, Onderwêreld (kuberkrakery) en die Nova-reeks (wetenskapfiksie).
Die verhaal van Pleisters word in die eerste persoon vertel en hy bly deurentyd naamloos. Al wat die leser van hom weet is dat hy in die hoërskool is en nie ’n baie lekker lewe het nie. Sy pa is geestelik geknak deur die Suid-Afrikaanse Grensoorlog en rand die verteller en sy broer aan. Sy ma is ook nie daar om hulle te help nie. By die skool staan hy bekend as ’n freak. Hy besluit dus om ’n einde aan alles te maak.
Die verhaal beeld dan sy "aand vir laastes" uit wanneer hy deur die stad beweeg en allerhande vreemde karakters teenkom, soos ’n nar, ’n prostituut, ’n dronklap en ’n swanger meisie. Dit wat hy saam met hulle ervaar, maak hom net nog meer vasberade om voort te gaan met sy plan by die skool.
Die boek word aanbeveel vir lesers ouer as 17 en volgens Coenraad Walters (Die Burger, 21 Julie 2014) moet dit ernstig opgeneem word: "nie net weens die gebeure en die kras, outentieke taalgebruik nie, maar veral weens die uitbeelding van ’n donker, moeilike en dikwels lelike lewe. Die verhaal kan egter nie eenvoudig as 'skokkend' afgemaak word nie: dit gee stem aan ’n bepaalde groep jongmense wat hulle druk en moeilike omstandighede nie suksesvol kan hanteer nie en hulle tot geweld kan wend om te ontlaai.
"Hierdie verhaal moet wyd gelees word: ouers behoort dit met hulle kinders te deel. Of onderwysers en bibliotekarisse toegelaat sal word om dié boek by skole beskikbaar te stel, sal ons nog moet sien. Pleisters vir die dooies is ’n belangrike nuwe boek in die Afrikaanse jeuglektuur wat die leser tot die laaste bladsy vasgenael hou."
Fanie vertel aan Vicus Bürger (Volksblad, 5 Julie 2014) dat hy Pleisters sonder ’n plan begin skryf het. "Ek het soos met BreinBliksem net daarin gedonder. Ek het die boek begin skryf sonder om te weet hoe dit gaan eindig en het myself deur die hoofkarakter laat lei.
"In Suid-Afrika, waar sommige kinders fisiek en emosioneel verwaarloos word, waar party ouers dink die onderwysers wat hul kinders moet grootmaak en waar tieners vir tieners 'opvoed' weens onbetrokke ouers, hier waar kinders by skole geboelie word en kinders toegang tot vuurwapens in hul ouerhuise het, stuur ons af op ’n skoolskietery. Daar is egter steeds wonderlike tieners wat nie so iets sal doen nie ondanks hul omstandighede."
Op LitNet wou Naomi Meyer by Fanie weet waar die idee vir Pleisters vandaan gekom het. Sy antwoord was dat hy al baie lank met die idee in sy kop rondgeloop het, maar nie geweet het hoe om dit te benader nie. "Ek het egter geweet dit is iets wat ek moet skryf, want dit voel vir my of ons hierheen op pad is in Suid-Afrika. Ons sien al die voortekens met gevalle soos die Skierlik-skieter, die Griekwastad-moorde en natuurlik die Slipknot-swaardmoordernaar, en meer. Daar is tieners wat met ’n verskriklike donkerte in hulle rondloop. Ek wou dit wys in die karakter se 'donkernag van die siel' voordat hy die kinders by die skool gaan doodskiet, en dan homself."
Meyer se volgende vraag aan Fanie was of dit nie ’n gevaarlike onderwerp kan wees nie, gesien die situasie in Suid-Afrika en of hy die onderwerp gekies het of die onderwerp vir hom gekies het. "Ek is nie seker wie kies vir wie nie. Dis ’n hoender-en-eier-situasie. Ek is baie daarvan bewus dat die onderwerp gevaarlik is. Dit maak my bang, en dit moet lesers bangmaak. Dis wat boeke doen.
Pleisters vir die dooies is dalk die beste manier om oor ’n skoolskietery te praat voordat dit werklik by ’n skool gebeur. Die boek is ’n waarskuwing dat dit nie net iets is wat in Amerika gaan gebeur nie. In 2013 het ’n skoolkind ’n pistool skool toe geneem om drie boelies dood te skiet. Uiteindelik is ’n onderwyser in die been gewond. ’n Boek soos Pleisters vra die vraag: Sê nou maar dit gaan verder?"
Fanie verduidelik aan Naomi Meyer dat hy dit verkies dat ’n boek teen ’n "geweldige tempo voortstu. Daar moet goed gebeur en hulle moet vinnig gebeur. Pleisters vir die dooies is in 2011/12 geskryf oor ’n tydperk van twee maande. Agterna was daar ook weergawes van die manuskrip waarin ek die pa-seun- en ma-seun-verhouding probeer uitbou het. Uiteindelik is die tonele geskrap en die boek weer tot op die been gesny om by die essensie uit te kom.
"Dit was ’n groot verligting om die donker knaap uiteindelik uit my kop te kry. Daar is sewentien weergawes van die manuskrip op my rekenaar. Soms het lang tye tussen sekere weergawes verloop. Dan moes ek die karakter weer gaan opsoek en sy chaos en woede in my kop toelaat. Op ’n stadium het dit gevoel of ek nie van hom ontslae gaan raak nie."
Pleisters is vir ouer tieners geskryf (17+), sê Fanie. "Daar is min Afrikaanse boeke vir hierdie lesers. Hulle gaan lees daarom eerder Engelse boeke. Jong volwassenes en ouers sal beslis ook iets in die boek vind. Dalk sal brawe skole hom gebruik. Die ideale leser van ’n boek soos Pleisters is tieners wat nie inpas nie, wat ’n buitestander is."
Naomi Meyer stel dit aan Fanie dat pleisters nie genees nie en dat dooies klaar dood is. Hoe het die titel na hom gekom? "Dit is een van die onverklaarbare dele van skryf. Die titel was eendag net daar. Dit is ’n manier van sê: as ons nie nou meer aandag aan ons jeug gee nie, sal dit mettertyd te laat wees vir trane. Sal ons wil help eers as dit te laat is?"
Op LitNet skryf Jaco Fouché dat die boek meer as gangbaar is en dat tieners wat die wêreld in baie van sy fasette reeds verken en ervaar het, aangetrokke tot die boek sal wees. "Viljoen verskaf as’t ware ’n uitlaatklep vir opgekropte emosies. Sommige mense mag redeneer hy loop gevaar om selfs rigting te gee aan enkele besonder ongelukkige siele wat nie meer herwaarts of derwaarts weet nie. (...)
"Sowat van ’n spanningslyn kry ’n mens nie oral nie en dit word deurentyd gehandhaaf - dit versnel selfs, hoe dieper ’n mens die donkerte van die verteller se nag op straat ingaan. Die einde is ’n openbaring, ’n verligting en moontlik ’n verlossing (waarop die eerste afdeling se titel, 'Verlosser', reeds sinspeel, hoewel ’n mens vroeg in die boek die woord eerder as wrang en ironies ervaar)."
In 2016 is ’n plekspesifieke produksie van Pleisters vir die dooies op die skoolterrein van die Oranje Hoër Meisieskool opgevoer as deel van die Vrystaatse Kunstefees. ’n Kernspan van agt akteurs (onder andere Wilhelm van der Walt, Nelien Smith en JP de Plessis) het saam met 30 leerders die verwerking opgevoer. Nico Scheepers was die regisseur en Hennie van Greunen die vervaardiger. Van Greunen was ook die persoon wat Fanie se boek in ’n toneelstuk verwerk het.
Van Greunen het ouers voor die tyd gewaarsku dat as hulle ’n probleem met die boek gehad het, hulle kinders liefs nie moet deel wees van hierdie grensverskuiwende projek nie.
Anton Smith het as volg oor die stuk geskryf: "’n Eietydse nuutgeskrewe drama wat teatergeskiedenis maak. Dit is essensiële teater vir ons tyd. Die drama lewer kragtige eietydse kommentaar oor ’n generasie wat uit ’n gebroke en onbeholpe generasie ontspring het. Die verrassende einde bring hoop en ’n geestelike deurbraak, nie net in die seun nie, maar ook in die lewens van soveel jongmense vandag." (Die Burger, 16 Julie 2016)
2014 was ’n goeie jaar vir Fanie. ’n Maand ná die publikasie van Pleisters verskyn sy volgende jeugroman met die titel Uit. En weer pak Fanie ’n omstrede kwessie aan met hierdie boek.
In Uit leer die leser vir Brent ken, ’n graad 10-seun en ’n talentvolle rugbyspeler. Sy beste vriend en rolmodel is Kevin wat nie net ’n goeie sportman is nie, maar ook voor in die koor is as dit by meisies, drank en partytjies kom.
Brent raak al hoe meer bewus daarvan dat hy nie soos meeste van sy maats is nie. Hy probeer die gevoelens onderdruk, maar uiteindelik loop sy innerlike konflik uit tot by die punt waar hy nie anders kan as om te erken dat hy gay is nie.
Fanie vertel op LitNet dat hy Uit geskryf het om aan tieners wat met hulle seksualiteit worstel, ’n eie stem te gee en te wys dat daar ander is wat met dieselfde probleme sit. "In ’n sekere opsig is daar deesdae ’n groter aanvaarding vir gay mense, maar daar is steeds mense wat geweldig teen die leefwyse te velde trek. Talle jongmense het daarom ’n ontsaglike vrees om uit te kom en hul ware self te wees."
Uit is in 2015 deur die Suid-Afrikaanse been van die International Board on Young Books for Young People (IBBY) gekies en as ereboek in die kategorie vir Afrikaanse jeugliteratuur aangewys. Uit sal dus deel uitmaak van die internasionale erelyskatalogus wat tweejaarliks deur IBBY saamgestel word. Vir Fanie was hierdie benoeming van IBBY vir hom ’n groot eer. "Ek is trots daarop dat Uit ons land kan verteenwoordig by kinderboekfeeste regoor die wêreld. Dit alleen wys Suid-Afrika het al ’n lang pad gestap om die skaamte van gaywees af te skud. Ek wil dan ook my uitgewers, LAPA, bedank dat hulle die boek gepubliseer het. Dit verg ’n uitgewer met moed om so ’n risiko te neem."
Op LitNet skryf Coenraad Walters dat die skrywer Brent se binnereis goed en oortuigend uitbeeld: "daar is dikwels oomblikke wat die leser sal herinner aan die stommiteit van jou eie tienerjare. Die karakterbeelding, skryfstyl, dialoog – alles dra by tot ’n meevoerende vertelling. Maar die waarde van die boek lê nie slegs in Viljoen se herhaalde demonstrasie dat hy uitstekend kan vertel nie – dit lê ook in die onderwerp en die vernuwende bydrae wat dit in die Afrikaanse letterkunde vir jonger lesers bring. (...)
"Met Uit bou Viljoen sy eie indrukwekkende publikasielys en die tienerfiksiegenre in Afrikaans positief uit met nóg ’n verhaal wat ver en wyd gelees moet word. Vele tieners gaan hulle eie stryd hierin weerspieël sien. Duisende meer gaan besef wat hul maats of familielede deurmaak."
Ook op LitNet skryf Dewald Koen oor Uit. "Met Uit het Viljoen ’n omstrede tema as onderwerp vir sy roman gekies – iets wat nog nooit tevore in die Afrikaanse jeugliteratuur gedoen is nie. Die roman is prysenswaardig, aangesien dit homoseksualiteit op ’n objektiewe wyse deur middel van die narratief bespreek. Die nawoord bevat waardevolle inligting vir tieners wat aspekte rondom hul seksuele oriëntasie wil ondersoek.
"Ten spyte van die boeiende narratief wat Viljoen aanbied, is daar egter sekere vrae wat geopper moet word. (Dan wei Koen uit oor Brent se verhouding met ’n meisie en die skoolhoof se homofobie wat volgens hom bevraagteken kan word.)
"Laasgenoemde faktore doen egter nie afbreuk aan die roman as geheel nie. Uit is baanbrekerswerk sover dit die Afrikaanse jeugliteratuur aangaan. Met hierdie roman slaag Viljoen daarin om homoseksualiteit, ’n kwessie waarmee talle tieners (en volwassenes) worstel, op ’n realistiese wyse uit te beeld. Die roman sal wel aanklank vind weens die gemaklike taalgebruik en die realistiese uitbeelding van tieners oor die algemeen. Beide Viljoen en LAPA moet geloof word vir die feit dat hul dit gewaag het om ’n jeugroman oor gaywees met ’n gay hoofkarakter te skryf en te publiseer. 'Elke mens moet iets doen wat hom bang maak. Al is dit net een keer in jou lewe, doen iets wat jou bang maak...' (91) Met laasgenoemde aanhaling bied Uit hoop aan talle mense wat met hule seksuele oriëntasie worstel. Met dié roman toon Viljoen weer eens dat hy sy vinger stewig op die pols het van aktuele kwessies wat die jeug op ’n daaglikse basis affekteer."
En toe in 2015 verskyn Fanie se eerste roman vir volwassenes getiteld Prooi. Hy vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat toe hy die storie begin skryf het, dit eers bedoel was as ’n verhaal vir ouer tieners, maar toe het hy besef dat die finale tonele waarop die roman afstuur, eintlik bedoel is vir ouer lesers. "Ek het daarom op advies van my jeugverhaaluitgewer die boek verander vir die volwassene-mark. Die karakters is ook ouer gemaak en die storielyn sterker. In kort is daar die klassieke driehoekverhouding: Cody Young is die rokjagter wat op soek is na sin in sy lewe; Owen Jooste is die hokvegter wat wil wegbreek van sy verlede en sy toekomsdrome wil najaag; en tussen hulle is die sensuele Lauren Cooper, wat op ’n pad van selfvernietiging beland. Die bestaan, al dan nie, van ’n Boheemse nagklub, Black Valentine, dryf die spanning tot ’n klimaks."
Jonathan Amid (Die Burger, 6 Junie 2015) was baie positief oor Fanie se eerste roman vir volwassenes. "Wat die verhaal tot op die breekpunt dryf, is die verwikkelde, fanatiese spel tussen jagter en prooi, en die voortreflike wyse waarop die grense tussen jagter en prooi deurgaans verduister word.
"Viljoen slaag uitstekend daarin om geloofwaardigheid, dimensie en tekstuur aan sy eg menslike hoofkarakters te gee.
"Deur die najaag van by tye bloedstollende spanning uitstekend af te wissel met gelaaide vertellings wat genoegsaam op elke hoofkarakter fokus, oortuigende, byderwetse dialoog, ’n aanvoeling vir die Kaapse milieu en subtiele deernis vir individuele gebrokenheid, is dié vaardige skrywer ook in staat om snydende maatskaplike kommentaar te lewer op die uiterstes van vervlakking en vervreemding (wat veral duidelik is tussen jong volwassenes wat op die voorpunt van moderne tegnologie hul – digitale – bestaan voer)."
Op LitNet skryf Henriëtte Loubser dat Prooi beskou kan word as ’n goeie voorbeeld van New Adult Fiction (NAF) of Nuwe-volwassene-fiksie (NVF) in Afrikaans. Dit is leesstof waar die karakters tussen 18 en ongeveer 25 jaar is.
Sy gaan voort: "Drie jong protagoniste, elk met hulle kwellings en kwessies, word in Prooi aan die leser bekendgestel. Daar is onverwerkte familiesake, slegte gesinsverhoudings, die smet van verfoeilike ouers, die druk om te gaan studeer, probleme by die werk, die vrees vir verwerping, die verlies van ’n geliefde, jaloesie, verkeerde keuses en lyflike swakhede.
"Van die lyflike gepraat: die seksfaktor in Prooi is prominent. Afgesien van die boeiende storielyn en die snelle pas van die verhaal is daar eksplisiete seksuele inhoud. Benewens die sekskapades van Cody is daar die intense fisieke sy van die verhouding tussen Owen en Lauren. Daar is rou begeerte ook by newekarakters soos Aga en midde-in hierdie spel met die lyflike staan Black Valentine en sy madame Diana. Die nagklub word vir die leser ’n karakter op sy eie, een wat dreigend die spanning aanvuur tot die klimaks teen die einde van die verhaal.
"In die woorde van Chanette Paul, ’n keurder vir LAPA, is 'die seksuele jagter nog nie voorheen só in Afrikaans omskryf nie. Die teks sal die leser van die begin af versmoor in die komende verdoemenis wat eenvoudig móét opdaag …' Hierdie spanningslyn hou Viljoen immer stygend en deurgaans tasbaar. Sy karakters is geloofwaardig, soms bejammerenswaardig en goed ontwikkel, soos in al sy werk.
"Die taalgebruik in Prooi is gepas binne die NVF-genre. Dis loslit en jeugdig, soos dit hoort, maar tog ook met ’n aangrypende diepte waar nodig: 'Hy kyk hoe die laaste sonlig oor sy ma se fyn hare en hartseer mond val. Dis moeilik om te dink dat sy eens so gelukkig was.'
"Fanie Viljoen is ’n uiters produktiewe skrywer. Boeke rol eenvoudig uit sy pen voort. Prooi het pas verskyn en daar is blykbaar reeds weer etlike boeke in wording. Alhoewel hierdie sy eerste boek vir die volwassenemark is (daar het reeds radiodramas, gedigte en kortverhale vir die ouer leser verskyn), sal Prooi hopelik dan ook nie die laaste wees nie.
"Vir die connoisseur van die psigologiese riller mag Viljoen met Prooi dalk nog nie die formaat van ’n Chris Karsten ewenaar nie, maar as ’n debuut in hierdie genre stel Prooi sy skrywer se aanhangers allermins teleur.
"Prooi sal waarskynlik uiteenlopende reaksie ontlok. Dit ontsien immers geen sensitiewe siel nie. Daar sal lesers wees wat hier vergeefs na Viljoen se jeugverhale gaan soek. Daar sal dié wees vir wie die blatante erotiese aard van Prooi en die ontbloting van die donker siel van die mens onaanvaarbaar sal wees, veral gesien in die lig van die ouderdom van die hoofkarakters. Maar dan sal daar diegene wees vir wie die felheid, die intensiteit van die emosies vreeslik (maar tog so mooi) sal wees – diesulkes wat daardie dramatiese, angst-gevulde en stomende tydperk tussen adolessensie en volwassenheid sal herken en so ’n ontstellende, onvergeetlike leeservaring sal geniet. Prooi het ’n treffende voorblad wat deur lesers self uitgekies is."
In 2010 het Tafelberg Uitgewers Fanie genader met ’n versoek om Jan Payne, ’n skrywer wat in Frankryk woon, se The World’s Best Book in Afrikaans te vertaal, asook om interessante Suid-Afrikaanse feite by te werk. Fanie het hierdie projek baie geniet. "Ek het op soveel vreemde feite afgekom. Soos dat die kortste vrou in die land hier in Bloemfontein woon. Dit was ook ’n uitdagende projek. Dit is die heel eerste keer dat ek iemand anders se boek moes vertaal. Maar dit was opwindend juis omdat daar soveel interessanthede voorgekom het," vertel hy aan Karen Ebersohn (Volksblad, 26 September 2011).
Fanie luister graag musiek, gaan gym of stap in die veld. Hy sê dat dit help om ’n mens se kop skoon te maak. Met die skryf van hierdie stuk (Januarie 2018) was Fanie besig met die skryf van ’n nuwe Lulu-boek en Aksieheld Austin.
Publikasies
Publikasie |
Slym: (die wêreld se eerste wurm in ’n paddakonsert) |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0799332909 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Spoke en ander gruwelike goed |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Geen |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
BreinBliksem |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
062404307 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Geraamte in die klas |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0798146168 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Klits Kronkel en die vlammende swaard |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
0624042464 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Miserella |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9780798148955 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Slym en die gogga-sirkus |
Publikasiedatum |
2007 |
ISBN |
9780799338928 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
2008 ATKV-Woordveertjie vir teks en illustrasies graad 1-3 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Klits Kronkel en die vloek van die Swart Jakkals |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780624046547 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
2009 ATKV-Kinderboek-prys graad 4-5 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Onderwêreld |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780624046691 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Lekker lees en leer: leesboek 5, vlak 4. Saam met Marita van Aswegen |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9781770022126 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Best Books |
Literêre vorm |
Skoolleesboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Slym en die beker van geluk |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780799345025 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kaptein Hamerkophaai |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780624045441 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Pynstiller |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Bloemfontein: F Viljoen |
Literêre vorm |
Grafiese verhaal |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Nova:die begin |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Wetenskapfiksie vir die jeug |
Pryse toegeken |
2011 ATKV-Kinderboekprys |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
13 spookstories. Saam met Jaco Jacobs en François Bloemhof |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780799346572 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Spookstories |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Klou: ’n superheld met kolle |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780799349849 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
2012 ATKV-Kinderboektoekenning |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Grilbrigade |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780798156240 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
2012 ATKV-Kinderboektoekenning |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Nova: vuurdoop |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780799349740 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Wetenskapfiksie vir die jeug |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Betower |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780799354881 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
2011 naaswenner LAPA se jeugromanwedstryd |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Scarred lions |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
2014 IBBY-ererol Afrikaanse uitgawe |
Vertalings |
2012 en 2013 Afrikaans, Leeus met letsels |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Nog 13 spookstories. Saam met Jaco Jacobs en François Bloemhof |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780799355109 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Spookstories |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Nova: bloedbroers |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780799354904 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Wetenskapfiksie vir die jeug |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Nova: sterreloper |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780799354904 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Wetenskapfiksie vir die jeug |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Koue rillings. Saam met François Bloemhof en Jaco Jacobs |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780799362107 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Spookstories |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Oe la la, Lulu |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780799360011 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Slym en die towertapyt |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780799362626 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Spring |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780799360004 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
ATKV-Kinderboekprys graad 6-7 |
Vertalings |
2015 Engels Jump |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Pleisters vir die dooies |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780799362510 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Hoezit-reeks. Deel 1-12. Saam met Jaco Jacobs |
Publikasiedatum |
2014-2017 |
ISBN |
97807993 |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Prenteboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Aksieheld Austin: Operasie sabotasie |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780799366327 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Nova: eindspel |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780799366617 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Wetenskapfiksie vir die jeug |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Uit |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780799367034 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
2015 IBBY-ererol |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Plons |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780799367171 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
ATKV-Kinderboektoekenning graad 2-3 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Prooi |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9780799375169 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Volwasse sielkundige riller |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kaptein Verdyn |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780799379044 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Afkop |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780799372885 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Bravo, Lulu |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780799375565 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
2016 ATKV-Kinderboektoekenning |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Monsterrugby |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780799377255 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Oepse daisy, Lulu |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780799377262 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
2017 ATKV-Kinderboektoekenning graad 6-7 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Jou Romeo |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
97780624081210 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
The last time I died |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9781785911392 (sb) |
Uitgewer |
London: Ransom Publishing |
Literêre vorm |
Tienerfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Krappie en die kroon |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780798175432 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Dromers |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780799383621 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Vertalings deur Fanie Viljoen:
- Payne, Jan: Die wêreld se beste boek. Kaapstad: Tafelberg, 2011 [ISBN 9780624052951 (sb)]
Artikels oor Fanie Viljoen beskikbaar op die internet:
- De Vos, Elmari: 5 boekminute met Fanie Viljoen
- De Vries, Izak: Fanie Viljoen: In Afrikaans so skaars soos hoendertande
- De Vries, Izak: Twintig vrae aan LAPA se jeugromanwenners
- Eloff, Herman: Storiewerf kuier by Fanie Viljoen
- Fanie Viljoen
- Fanie Viljoen
- Fanie Viljoen
- Fanie Viljoen
- Jaco Jacobs en Fanie Viljoen gesels boeke
- Kapp, Sophia: VivA klets met Fanie Viljoen
- Malan, Mariana: "Dis nie maklik om ’n kinderboek te skryf"
- Marx, Maggie: Fanie Viljoen gesels met Maggie Marx
- Meyer, Naomi: Hoezit, Fanie Viljoen!
- Van der Westhuizen, Leoné: ’n Bekende besoek: Fanie Viljoen
Artikels deur Fanie Viljoen beskikbaar op die internet:
- Boekedag 2012: Fanie Viljoen kies ’n karakter
- "Een virrie pad" [gedig]
- Hoe lyk jou stad-kompetisie: Bloemfontein [gedig]
- Ink [gedig]
- Lied in die nag [kortverhaal]
- Liefde op papier: tin en yang [gedig]
- Vat [kortverhaal]
- Wag [kortverhaal]
- Wat jy moet weet van wetenskapfiksie
- WF 2015: Fanie Viljoen deel 5 skryfwenke
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Fanie Viljoen (1970–) appeared first on LitNet.