Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 321

Joha van Dyk (1997–2025)

$
0
0

Gebore en getoë

Joha van Dyk is op 27 Februarie 1997 in Namakwaland op die plaas Steenvlei gebore naby Kleinsee, 10 jaar ná haar enigste sib, Wian. Sy het op hierdie plaas grootgeword – daar waar sy kon rondhardloop en haar verbeelding vrye teuels kon gee.

Sy vertel aan Anri van Helsdingen dat haar skoollewe op die dorpie Kleinsee daartoe bygedra het dat sy soms afgesonderd en alleen gevoel het, terwyl die plaaslewe haar help vorm het. Nie net as mens nie, maar ook as skrywer omdat sy as plaaskind staat moes maak op haar verbeeldingswêreld. “Die plaas se oop vlaktes het vir my vryheid gebied,” verduidelik sy aan Van Helsdingen.

Op die plaas buite Kleinsee het sy saam met haar border collie Lady en haar verbeelding rondgedwaal en gedroom, skryf Nadine Petrick (Vrye Weekblad): “Soms, met haar eie klein troffeltjie, kamma-kamma met bouwerk gehelp. Vuil en vol modder geword. Baiekeer met die mense in die gastehuis op die plaas gekuier en dinge geleer wat haar verwonderd gelaat en die reeds vrugbare verbeelding water gegee het. Haar pa het áltyd vir haar gelees. Haar ma het haar aan kuns en interessante mense blootgestel. Kortom, die lewe was lekker, heilsaam en ongekompliseerd.

“Die laerskool op Kleinsee was piepklein. Met haar neus ewig in ’n boek en ernstige FOMO vir als wat op die plaas gebeur, was sy soms geïsoleerd van maats, maar dit was tog ’n goeie tyd in haar lewe. Omdat daar so min leerders was, het almal mekaar ondersteun eerder as om Mean Girls te probeer wees. ‘We were all that we had.’”

En op die ouderdom van agt jaar begin Joha se skrywersreis, met ’n rekenaar wat haar broer vir haar omgebou het.

Haar ouers het nie net met skape geboer nie, maar het ook ’n gastehuis, Die Houthoop, op die plaas bestuur. Dit is daar waar ’n jong Joha kennis gemaak het met ’n wye verskeidenheid van karakters – ook uit die buiteland – en met hulle interessante stories.

Sy is so bietjie van ’n daddy’s girl, vertel sy verder aan Petrick, so sy het ’n grand idee gehad van boer saam met haar pa. Tot sy besef het skaapslag en bloed is daarby betrokke. Die gedagte het getaan, so ook die opvolgdroom van veeartsenykunde. Dan maar eerder fokus op haar talente. “Ek het altyd pypkar in die veld gery en kliphard opgemaakte stories vir myself vertel. Dit klink dalk nutty, maar ek het al gesien hoe kinders aangaan. Hulle maak of hulle diere is en stuff, so you know what? It’s better this way!” lag sy.

Petrick gaan voort: “Storievertel het egter nie getaan nie; as Namakwalander is dit immers in haar bloed. In graad 2 skryf sy haar eerste boek – ’n baie crappy cross-over tussen TwilightTeen Wolf en Sabrina the Teenage Witch (op die omgeboude rekenaar). Van toe af was dit al wat sy wou doen. Skryf en stories vertel. Nie in Afrikaans nie, snaaks genoeg, maar in Engels.

“Toe sy wel besef hoe mooi mens kan inkleur en speel met die taal (dankie, Spoegwolf, Jan Blohm en Koos Kombuis), was die saak beklink.”

In die skool op Kleinsee het sy nie gevoel dat sy altyd inpas by die res van die kinders nie: “Ek het besef ek kan nie mooi genoeg sing, teken, verf, dans of vinnig genoeg hardloop nie,” onthou sy. “Maar ek kon baie vinnig lees. Ek het uitdagende boeke gelees vir my ouderdom, en ek was ook goed daarin om stories uit te dink. Toe het ek besluit ek gaan vir my ’n talent skep en ek gaan begin skryf.”

Joha se juffrou vanaf haar graad vyf jaar by Kleinzee Primêre Skool, Magda Frylinck, vertel dat Joha se neus altyd in ’n boek was terwyl sy klasse gewissel het: “Ek was bang dat sy van die meter-hoë stoepie sou afstap, omdat sy nie gekyk het waar sy loop nie. Sy het ook van jongs af ’n sterk werksetiek getoon.

“Ons het ’n merietestelsel gehad waar jy stelselmatig van koper tot platinum kon beweeg, indien jy presteer in verskillende werksopdragte,” verduidelik sy. Joha is die enigste leerder in die skool se geskiedenis wat platinumstatus behaal het. 

En ’n vriend van hoërskool, Divan Bosman, meen dat die onderwysers in die hoërskool (Stellenbosch Hoërskool) waarskynlik nog altyd Joha se opstelle gebruik as ’n voorbeeld van hoe ’n “kreatiewe skryfwerk eintlik moet lyk”. (SMFNews)

Joha sit haar skoolloopbaan voort aan die Hoërskool Stellenbosch. Dit is daar waar sy haar niche gevind het – dramaklasse en toneel saam met vriende wat gekom het om te bly. Sy het ook bydraes gelewer vir die skoolkoerant en ook ’n belangrike rol gespeel in die kulturele lewe, asook as verhoogbestuurder vir teatergroepe.

Toe Joha in matriek was, is ’n naby familievriend van haar oorlede. Hierdie verlies het haar hard geslaan en sy vertel aan Petrick: “My mental health het ge-dip, my angs het deur die dak geskiet en ja, if left untreated, word die angs natuurlik depressie. As ek nou (2024) oor skool praat, wonder ek: Jissou, hoekom was hierdie arme kind so angstig!”

Joha matrikuleer in 2015 aan die Hoërskool Stellenbosch.

Verdere studie en werk

Ná skool is Joha na die Universiteit Stellenbosch, waar sy voortbou op haar akademiese reis. Sy verwerf haar BA-graad in die Geesteswetenskappe, wat gevolg word deur haar honneursgraad in Engels wat sy cum laude verwerf. Met haar tesis vir haar meestersgraad, ’n verkenning van kortverhale met die “verlate” dorpie Kleinzee as agtergrond, verwerf sy weer haar graad cum laude.

Sy het haar akademiese studies voortgesit deur te begin met haar doktorsgraad in Engels waarin sy terugkeer na haar wortels. Hierdie tesis getiteld “Diamonds are forever: (Re)building the archive of a prototypical mining town” wat sy aan die Universiteit Stellenbosch onderneem het, het gehandel oor Namakwalandse storievertelling. Met hierdie proefskrif het sy gehoop om toekomstige navorsing en die bewaring van Namakwaland se mondelinge tradisie aan te moedig – só sit sy die vermenging van haar akademiese belangstellings en haar literêre passie voort.

Joha se talent as digter het gelei tot die plasing van haar verse in Penseel en op Versindaba, asook op LitNet.

Die verlies van haar familievriend in matriek het gelei tot die skryf van haar eerste manuskrip: “Skryf is dus deel van die terapie,” erken sy teenoor Nadine Petrick. Maar hierdie manuskrip is nie gepubliseer nie, want sy was “jonk en ongetoets” en ná sy herskryf het en bygewerk het, meen sy die storie is nou “reg”, maar of dit uitgegee gaan word, weet sy nie – maar daar is ’n swaar las van haar skouers af.

Sy het die manuskrip aan Human & Rousseau gestuur en die uitgewer Simone Hough het daarin belanggestel, maar sy wou dit as ’n jeugroman uitgee en dit was nie wat Joha wou gehad het nie. Sy is genooi vir koffie in die Media24-gebou en dit is waar sy die idee vir haar eerste boek Branderjaer gekry het.

Oor die hele proses om Branderjaer op die boekrak te sien, vertel Joha aan Marli van Eeden: “Nadat Simone Hough my gevra het om haar te kontak wanneer ek ’n manuskrip het, het ek begin skryf en binne so twee tot drie maande was dit klaar. Ek en my ma het dit so tussen ons geproeflees en redigeer voordat ek dit ingestuur het na Simone, en op 2 September 2019 het ek uitgevind ek gaan gepubliseer word en my kontrak ontvang. Daarna was dit natuurlik baie redigering – ek het ook in die begin van lockdown baie dele van die boek herskryf, hoofstukke oorgeskryf in ander perspektiewe, karakters en tonele gesny. Maar dit was alles vir die beste, want ek is ongelooflik tevrede met die eindproduk.”

Dit was vir haar onwerklik toe sy haar boek vir die eerste keer op die winkelrakke gesien het. “Daar is baie woorde wat mens kan gebruik om daardie gevoel te beskryf, maar uiteindelik is dit my droom om ’n skrywer te wees. Dit was my droom om gepubliseer te word, en om die boek daar te sien, op die rak, is my droom wat waar word.

“Die hele proses van publikasie is baie lank, so daar is hierdie klein ‘bursts’ van emosie – wanneer jy die manuskrip kry en daar is goeie kommentaar; wanneer jy die eerste keer die voorblad/agterblad sien; wanneer jy die boek kan onthul aan die publiek; wanneer jy jou eerste onderhoud doen; wanneer jy die boek fisies vashou. So, in daardie oomblik het dit gevoel asof ek al daardie klein oomblikke van ekstase op een slag beleef; dis asof alles saamgekom het uiteindelik. Kortliks ... dit was onwerklik en net ...’n oomblik van pure geluk.” (LitNet)

En toe, in 2020, op 23-jarige ouderdom word Joha se eerste boek gepubliseer onder die titel Branderjaer. En dit is onmiddellik ’n treffer. Vir Joha om op so ’n jong ouderdom te publiseer, was nie net glamorous en lekker nie. Die meeste van die reaksies was positief, maar daar was ook kritiek: “Mense vergeet soms ek is nog jonk en vind nog my eie stem. En myself,” vertel sy aan Petrick. “Ek is in my twintigs. Ek weet nog nie eens heeltemal wie ek is nie! Ek sorteer myself nog uit. Om dit te doen én jou droom te probeer najaag met al die oë op jou, is interesting. En scary en dysfunctional. Ek wonder soms, kan mense onthou dat ek maar net 23 was toe ek my eerste boek uitgegee het? Ek was ’n kind, I didn’t really know what I was doing, I was just trying to do my best.”

Mense vergeet ook sy is net ’n mens, skryf Petrick: “Maar al die kritiek en geraas het haar geleer om gefokus te bly. Sy kyk nou verby die geraas. Solank sy getrou is aan haarself, haar stories en haar lesers, is sy gelukkig. Sy wéét hoekom sy haar stories vertel.”

In 2018 ry Joha saam met haar gesin op die rooi bus deur Kaapstad en toe hulle verby Seepunt ry, het die toergids genoem dat daar baie branderjaers van oor die wêreld kom om die branders te kom ry: “Ek het die woord, branderjaers, neergeskryf in my boekie. Twee maande later toe ek dit weer raaklees, het ek begin skryf. Die name van die branderjaers het ek in ’n blokkiesraaiselwoordeboek raakgesien. Ek het randomly by die woord ‘ekstreem’ opgeëindig. Langsaan het daar vyf woorde gestaan: ‘bittereinder’, ‘vuurvreter’, ‘kanniedood’, ‘stokebrand’ en ‘klipvreter’. Ek het toe dié vyf woorde as die noemname van die Branderjaers gebruik.” (Stellenbosch Media Forum, 24 Oktober 2020)

Die boek speel af op ’n fiktiewe dorp, Stormbaai. “Deidre Anker, die hoofkarakter, se pad kruis met Louw Swanepoel wat ’n Branderjaer is,” vertel Joha. “Sy begin besef dat daar meer agter die Branderjaers is as wat mense dink en sy word met die loop van die storie al hoe dieper in hulle gevaarlike besigheid ingetrek.”

Jonathan Amid is op Netwerk24 baie beïndruk met Branderjaer: “Vergeet van gereeld asemskep. Vergeet van ’n debuut wat jou hand vashou, broksgewys touwys maak en uiteindelik toelaat om te ontspan. Nee, wat. Branderjaer is ’n bielie-boek, een wat die boekwurm en die trae leser vasgenael sal hou. ’n Boek oor tieners, vir tieners, wat ma en pa beslis ook sal geniet. Joha van Dyk se opwindende debuut – in der waarheid ’n roman vir jong volwassenes wat my veral met ’n tweede lees beïndruk het – kondig luidkeels aan: Hier is ek! Neem kennis! (...)

Branderjaer is wat ’n mens ’n ‘besige boek’ sou noem, en hoe minder jy vooraf van spesifieke detail weet hoe beter. Hier is wat jy moet weet as jy (...) dit oorweeg om Branderjaer aan te skaf: dit is ’n baie teer, by tye ontstellende verhaal wat vernaam handel oor die skep, vorming en vervorming van ’n eie identiteit. Die soeke na ’n tuiste, tussen vier mure en in hul eie liggame, van ’n uitsoekgroep manlike karakters, die vyfmanbende van die branderjaers, wat uiters waaghalsige toertjies doen en video’s daarvan op YouTube plaas. (...)

“Van Dyk is volkome gemaklik met die opneem van die pen. Haar dialoog knetter dikwels. Oorgenoeg aksie, en goedontwikkelde hoof- en newe-intriges, sorg vir ’n roman wat nie sommer insinkings beleef nie. Die prosa lees vlot; die verskeidenheid karakters oortuig.

“Die skrywer moet wel waak teen een te veel intriges en eenvoudig te veel karakters wat elk om ’n plek in die soeklig veg. So is dit aanvanklik te moeisaam om uit te pluis wie is wie en om behoorlik te onderskei tussen branderjaers wat elk om die beurt op hul regte en hul noemname aangespreek word.

“Dit gaan aansienlik beter ná die eerste derde van die boek. So, ook, is dit net te obvious om Deidre as vroulike hoofkarakter se van ‘Anker’ te maak. Natuurlik is dit gepas en maak dit in konteks van die verhaal sin, maar dis ’n voorbeeld van die skrywer wat te onsubtiel te werk gaan.

Branderjaer is inderdaad ’n vurige, ambisieuse debuut, ’n eerste brander wat Van Dyk met gemak en selfvertroue trotseer.”

In haar lesersindruk op LitNet skryf Wanda Olivier só oor Branderjaers: “Die verhaal is deurspek met plofbare sosiale probleme wat daagliks kinders en families konfronteer en definieer. Om te behoort, druk, boelies, gesinsgeweld, bendebedrywighede, bloedskuld, finansies en trauma. Ouers wat ‘perfekte’ planne smee, en moeilike toekomsbesluite vir jongmense wat matrikuleer en skool verlaat.

Die Branderjaers is aantreklik, gewild, en lewe voluit. Hulle ry branderplank, spring van kranse af, en het talle ander avontuurlustige aktiwiteite wat hulle besighou. Vir hul volgelinge blyk hulle vreesloos en roekeloos te wees en word daarom as adrenalien-junkies bestempel.

“Louw, Jak, Ellis, Malherbe en Ben het mekaar in die kleuterskool ontmoet waar ’n gebeurtenis met ’n blou bekertjie die vyf seuns se lewens onherroeplik by mekaar verstrengel laat raak het. Elkeen worstel met sy eie probleme en identiteit, maar hulle huiwer nie om mekaar te ondersteun nie. Lojale bloedbroers. Hierdie tipe integriteit van samehorigheid, empatie en gewetens met deursettingsvermoë in enige omstandigheid en gebeurtenis gee hoop waarmee geïdentifiseer wíl word. (...)

“Deidre, in graad 11, word volgens ’n plan grootgemaak. Sy en Louw raak onder dwang betrokke. Sy is anders. Hulle jong liefde ontwikkel dieper hoe verder jy lees. Hy leer haar om voluit vir haarself te lewe en besluite te neem.

“Die leerhangertjie met gelukbringers om sy nek en gereelde beserings aan die Branderjaers maak haar kwaad en nuuskierig. Sy besef Stormbaai is vol geheime wat ontrafel móét word. Gedryf in haar soeke maak sy skok-ontdekkings. Sy verstaan uiteindelik wie die Branderjaers is en dat sy hulle sonder voorbehoud kan vertrou.

“Die Branderjaers word op hul beurt gekonfronteer met ’n waarheid wat Deidre se lewe raak en moet hulle vinnig besluite neem. Watter impak het dit op die Branderjaers en die verhouding tussen Louw en Deidre?

“Ek beveel hierdie boek aan. Nie net vir die jeug nie, maar ook vir ’n breër groep lesers. Want ouers wat kinders op pedestals sit se struggle is werklik wanneer ’n kind faal. Maar in werklikheid val ouers ook van pedestals af. Gripping en nog.”

In Junie 2022 verskyn die opvolg op Branderjaer by Human & Rousseau onder die titel Vuurvreter. Joha vertel aan Karla de Bod (Stellenbosch Media Forum) dat hierdie tweede boek baie lekker was om te skryf: “Die temas waarmee ek hierdie keer werk, volg op Branderjaer s’n. Ons kyk nog steeds na boeliegedrag, vriendskap, jong liefde en gesinskonflik, maar ons kyk ook na klasseverskille soos old money, new money en middelklas, asook deeply personal temas vir die karakters self.”

Sy het Vuurvreter in 2021 klaargemaak nadat sy vir twee maande haar in haar woonstel toegemaak het en aanhoudend gesit en skryf het: “Ek kan distinctly onthou hoe ek sit en skryf terwyl [my vriende] Bohemia toe loop en ek kon nie saam gaan nie, want ek moes isolate om te skryf. Maar dis lekker, want na die tyd kon ek hulle vertel wat ek skryf.”

Vuurvreter se verhaal vind plaas twee en ’n half maande na dié van Branderjaer. “Aan die einde van Branderjaer weet die leser nie wat volgende gaan kom nie,” sê Joha, “en dis waar Vuurvreter die storie optel. (...) Die einde van die boeke is die eerlike einde en hoe dit moes eindig. There’s more to come, so dit gaan okay wees.”

Simone Hough, Joha se uitgewer by Human & Rousseau, is baie beïndruk met hoe baie Joha geleer het sedert die publikasie van haar eerste boek: “Dit is altyd baie bevredigend om te sien hoe ’n skrywer groei en hulle vaardighede slyp,” het Hough gesê. “Ek voorspel dat daar nog baie opwindende dinge wag in haar loopbaan as skrywer.

“Sy het ’n fyn aanvoeling vir karakters en sy leef haarself totaal in die verhaal in wat sy vertel. Soms is ek verstom oor die goed waarmee sy vorendag kom en hoe diep sy in ’n karakter se vel kan klim!” het Hough gesê.

Ook Joha se Afrikaans-onderwyseres by die Hoërskool Stellenbosch, Lourette Erasmus, vertel dat Joha reeds op hoërskool ’n kreatiewe skrywer was: “Joha was nog altyd ’n skrywer en het nog altyd meer volwasse temas gekies om oor te skryf. Haar [skryfwerk] was uiters kreatief en anders as enige ander leerder in haar graad s’n en ek is opgewonde en nuuskierig om Vuurvreter te lees.”

’n Groot deel van Vuurvreter gaan oor “Vuur” (Malherbe) Albertyn se soektog na sy oudste suster Charlie wat skielik verdwyn het. “Vuur se somer gaan sommer lekker warm raak soos hy verwoed begin rondkrap vir antwoorde,” skryf Jonathan Amid op Netwerk24.

“Terwyl sy Branderjaer-broers steeds letterlik vir hul skuld in die arena baklei en allerhande onderduimshede om die dampkring van die dorp se ryk en magtiges plaasvind, is daar ’n ander hoofkarakter wat na antwoorde smag: Mieke le Roux. Jak ‘Stoke’ Human en Mieke se verhouding is geanker in stille waters, diepe grond; Mieke en Malherbe se band, soos hulle die magiese Ylwoud in Kransbos probeer navigeer, is allesbehalwe navigeerbaar. (...)

“Joha van Dyk het met haar debuut gewys dat sy oor oorgenoeg rou talent en skryfvaardighede beskik – om nie eens te praat van die ambisie om ’n ganse sage te konseptualiseer en te skryf nie. Vuurvreter as die tweede boek in die reeks en as direkte opvolger van Branderjaer, land dus nie sonder bepaalde konteks, vraagstukke en moontlike verwagtinge nie.

“Vuurvreter se kort hoofstukke, heel geslaagde afwisseling van perspektiefkarakters, indrukwekkende sin vir ruimtelike inkleding en ’n stewige aanvoeling vir die invloed van ruimte en plek op die karakters se menswees, is alles positief. Die geheel is soms bitter aangrypend, geskryf met ’n sin vir die visuele en poëtiese wat dan en wan groot indruk maak.

“Die verhaal is ongetwyfeld een met groot oomblikke. Daar is egter heelwat hebbelikhede en struikelblokke wat verhoed dat die verhaal tot sy reg kom.”

Dan noem Amid “konstante, oorbodige steurende detail en beskrywings”, “lang passasies dialoog, besinnings, gewaarwordinge en interaksies” wat te geforseerd, uitgerek en futloos is.

Maar “Vuurvreter kom juis die mas op wanneer die karakters ook toegelaat word om te doen en te wees, nie bloot net te dink en te wroeg nie, soos vasgevang in vele latere tonele in Kransbos/Ylwoud. Daarteenoor is ek nog nie oortuig dat die ritme en tempo van die vertelling wel altyd lekker vlot nie – te veel woorde en te min stiltes, dalk. Vuurvreter sal waarskynlik die meeste aanhangers tevrede stel. Vir hierdie leser moet die skrywer dit egter oorweeg om haar gehoor meer te vertrou: Soms eggo die stiltes ook.”

Die derde titel in die Branderjaer-reeks, Kanniedood, word in 2023 uitgegee. Joha vertel aan Luzanne Warren meer oor die titel, Kanniedood: “Albei my hoofkarakters in hierdie boek is ’n kanniedood – ’n survivor en ’n vasbyter – op hul eie manier. Kanniedood impliseer ’n sekere strength, ’n standvastigheid en taaiheid wat beide die Palmer-kinders embody. Kalla is ’n bitter sterk vroue-karakter, sy het geslagsgeweld oorleef en weier om op te gee, weier om op te hou oorleef en Ben se oorlewing binne die bende-kultuur, binne Stormbaai is ook belangrik tot die verstaan van Kanniedood.

“Vandat ek die noemname vir die Branderjaers in ’n blokkiesraaiselwoordeboek gevind het, het ek geweet elk van die karakters se persoonlike storie sal te groot wees om binne die ‘side-character’ of ‘supporting character’ posisie te bly. Die idee dat elkeen van hulle ’n ondersteunende karakter kan wees en tog hul eie lewens lei as protagoniste was ook vir my belangrik, want dis tog hoe dit werk in die regte wêreld. Ons is in sommige mense se lewens randfigure waar ons hoofkarakters in ons eie lewe is. So, die titel Kanniedood was ’n natuurlike volgende tree in die groter verhaal van die Branderjaer-sage. Maar ek moet sê, so ver is dit my gunsteling. Die manier wat die titel gespasieer is op die voorblad: Kan – Nie – Dood is vir my ongelooflik treffend en dra sy eie betekenis by tot die Palmers se verhaal.”

Joha lê ook die konteks van die drie boeke vir Warren uit: “Ek dink altyd aan Branderjaer en Vuurvreter as die inleiding boeke (alhoewel jy elke boek op sy eie kan lees met genoeg agtergrond binne die eerste paar hoofstukke om jou op te catch). Branderjaer stel ons voor aan die Jaers en ons groter cast of characters wat later in belangrik gaan word. Dit stel jou voor aan Stormbaai, die politiek en ons groot antagoniste. It sets the tone. Vuurvreter stel jou voor aan die mitologie en die mistieke elemente rondom Stormbaai, asook Chancer Bay en jy kan effe dieper in die politiek indelf en hopelik tot die afleiding kom dat daar nóg kragtiger figure in die agtergrond is wat nog nie betrokke is by Stormbaai se onderwêreld nie. 

Kanniedood is vir my die vonk – letterlik en figuurlik – van die rewolusie, die rebellie van die Jaers. Die Branderjaers se torment binne Breekwater, binne die Arena, het begin met Kalla Palmer se aanval en oorlewing. Kalla is moeg van bloot oorleef, veral wanneer haar pa – die bendeleier van die Urchins – terugkeer na Breekwater en skynbaar ’n gang-oorlog wil begin. Dit is asof sy wakker skrik wanneer haar pa terugkeer. In plaas van net laag lê soos sy die afgelope paar jaar het, face sy die feit dat daar ander meisies is soos sy, ander kinders wat nie die beskerming het van familie-lede of allies soos die Branderjaers nie. En sy is nie tevrede daarmee nie. Natuurlik word die Branderjaers hierby ingesleep – alhoewel ingesleep dalk verkeerd is. Dis hulle instink om te help, te ondersteun. Hulle is broers. Hulle is familie. Kalla is dus ook hul familie. En sommige van hulle (cough, Jak) is baie keen om brand te stook. Kanniedood is dus die spark. Die bendes begin aktief raak en die tieners raak baie meer betrokke as wat hulle was.” 

Oor Kanniedood se hooftema laat Joha haar as volg uit: “Dis bitter moeilik. Suid-Afrikaanse gang culture is die basis van hierdie boek. Dit het baie navorsing geverg en dit was fassinerend en meesleurend toe ek eers begin het. Ek dink dis verskriklik belangrik dat ons meer daarvan leer, veral in ons land waar dit so uniek is. Ek dink dis belangrik om dit te verstáán en te verstaan dat agter die nuusstories oor dwelms en shoot outs en hits is daar ma’s, kinders, gesinne en vriende wat ly daaronder. 

“Maar, nes elk van die boeke, het elke karakter hul hooftemas. Ben s’n sou ek beslis sê is seksualiteit en masculinity. Kalla s’n is sexual assault en feminisme. Die tema van identiteit is ongelooflik belangrik, nes in elke boek, sowel as boelie, broederskap/vriendskap en PTSD (mental health).”

Op LitNet gesels Naomi Meyer met Joha oor Kanniedood en haar eerste vraag aan Joha is: “Jy is ’n wit vrou en jou hoofkarakters in Kanniedood is nie wit nie. In hierdie land is dit nogal moeilik om mekaar werklik te leer ken. So, hoe het jy dit reggekry om te klink soos ’n karakter wat heeltemal anders praat en in ’n ander omgewing leef as jy?”

Joha vertel dan aan Meyer hoe sy te werk gegaan het: “Eerstens moes ek baie bewus wees van my posisie as ’n wit vrou. Ek moes vrae vra, niks vanselfsprekend aanvaar nie, en oop wees om te luister en bowenal nog meer navorsing te doen indien ek steeds onseker was. Soms moes ek ’n paar keer teruggaan en vrae vra, elemente van hierdie karakters se lewe probeer uitpluis en uitdebatteer met mense wat lyk en praat soos my karakters, soos Ben en Kalla spesifiek (omdat ek die meeste tyd in hulle koppe moes spandeer).

“Rondom die dialoog het ek geweet wat ek wou hê hulle moet sê, so ek het dit reguit so geskryf en na die tyd gesit met my vriendin, Nienke Osborne, en ons het die dialoog en gedagtes van die karakters deurgewerk en aangepas dat alles akkuraat is tot die spesifieke karakters. Waar sy onseker was, het ons haar kollegas en familielede gevra. Ek het my ander vriende ook geraadpleeg, en wanneer daar verskille is (soos daar maar dikwels is rondom dialek en kultuur, gebaseer op areas), het ek bepaal wat die mees natuurlik sou pas in my karakters se omstandighede. (...) Oral is daar (...) klein verskille, daarom moet jy maar jou huiswerk doen, jy moet jouself immerse in hierdie kultuur, in hierdie manier van praat, totdat dit kliek met jou karakters. Na ’n rukkie het dit vir my makliker geraak om te identifiseer wanneer ’n karakter se taal nie hard genoeg is vir sy persoonlikheid nie (bv Check of Boss se taal), of waar ons te veilig speel met Kalla se dialek. Teen die tyd dat Nienke na werk by my aangesluit het, het ek soms ’n paar bladsye reeds geredigeer, dan kan sy dit net nagaan en aandui waar dinge kan verbeter.

“My karakters bevat ook elemente van werklike figure in my lewe, werklike ervarings en karaktereienskappe. Spesifiek is Ben se manier van aksent aanpas geïnspireer deur my vriend Darren Carolissen. Toe ons op skool was, het ek opgelet hy praat een manier om my, ’n ander manier om ’n sekere onderwyser, ’n ander manier om sekere bruin leerders. Toe ek vir hom vra hoekom hy anders praat om my het hy gesê: ‘Dis sodat jy gemaklik voel.’ Ek, nes Lee in Kanniedood, het toe vir hom gesê dis nie nodig nie, ek is gemaklik om hom. Maar hierdie was ’n oorlewingstegniek – een wat ek opgelet het baie bruin kinders moes aanleer. Dit het my bygebly en ek het dit net nooit in ’n boek raakgelees nie. Dis iets wat gebeur, surely moet ons dit acknowledge en ’n gesprek daaroor voer?

“Of ten minste net dit insluit in boeke, want dit is die realiteit. Die realiteit is ook dat daar baie boeke is waarin ek myself kan raaklees, al vandat ek klein is. Maar Darren en Nienke byvoorbeeld – hoe baie is die bruin kids die protagoniste? Hoe dikwels word hulle akkuraat in boeke uitgebeeld sonder dat hulle voel dele van hulle en hulle kultuur en hulle manier van praat word uitgewis om dit meer palatable te maak? Ek dink omdat die saak baie na aan my hart was en omdat dit net reg is teenoor my karakters en my storie, kon ek nie anders as om daardie moeite en tyd in dit in te stort nie.”

Magdel Vorster is die resensent van Kanniedood op Netwerk24 (15 Oktober 2023) en sy skryf as volg: “Dié keer verken die leser die Breekwater-gemeenskap – spreekwoordelik die anderkant van die treinspoor, waar bendes regeer en die Branderjaers in die Arena baklei om Bloedskuld af te betaal. Soos in die vorige twee boeke span Van Dyk weer twee perspektiewe – dié van Ben (Kannie) en Kalla – as vertellers in.

“Ben en Kalla is broer en suster. Hulle klink verskillend. Ben maak van kleins af aksente na en glip maklik in en uit sy Stormbaai- en Breekwater-stemme. Kalla rebelleer daarteen en neem haar aksent saam wanneer sy aan die begin van die skooljaar graad 11 by Storm Hoër begin. Ben is danksy ’n krieketbeurs al sedert graad 8 daar. Ander aksente van Afrikaans as bron van diskriminasie en boeliery speel deurgaans ’n rol. (...)

Kanniedood se tempo is aansienlik vinniger as die vorige twee boeke. Kalla, desperaat om die ‘bakhandbaba’-etiket af te skud, verstaan wanneer Malieka haar vra of sy weet wat gebeur as ’n rot in ’n val vassit. En Kalla én Ben is inderdaad by ‘bienafkou’, want die ‘Urchins is maar net so goed soos die Rotte. En daar is niks goed aan die Rotte nie.’ Saam met ’n paar Branderjaers en ’n onverwagte kombinasie van karakters beraam hulle planne om dinge te verander en ’n paar naelbyt-tonele volg.

Kanniedood kan help begrip en empatie kweek vir gemeenskappe wat ná gedwonge hervestiging moes aangaan en hoe bendekultuur heel moontlik toe gevestig is. (...)

“Die skrywer slaag daarin om flikkerings van menslikheid in die verfoeilikste karakters en optredes te wys. Die meeste ouers of ander volwassenes doen of sê êrens iets wat skok, ontstel of dronkslaan, maar lesers word aangemoedig om alles (en soms tussen die reëls) te lees.

“Leidrade oor die rol wat vroue (ma’s, dogters, vriendinne) in bendegemeenskappe speel, word regdeur die verhaal gesaai, en soms moet hierdie drade geknoop word om die ware prentjie te kry.

“Van Dyk voer haar lesers nie met ’n lepel nie. Die bendekultuur met sy verskrikkings en hopeloosheid word in Kanniedood eerlik en insiggewend dog met deernis geskryf. Ek kyk met ander oë na graffiti. Ander temas soos seksualiteit en boeliegedrag word ook sensitief hanteer.

Kanniedood is ’n boeiende kopoopskiet-verhaal, maar terselfdertyd net nog ’n aangrypende aflewering oor die lewe van ’n groepie jongmense vir wie ons begin omgee het. En gelukkig is daar nog twee Branderjaers wat boeke moet kry ...”

In haar lesersindruk op LitNet skryf Irma Steffens: “Kanniedood, die derde boek in die Branderjaer-sage, is Ben Palmer en sy suster, Kalla, se storie. Hierdie keer fokus die verhaal nie spesifiek net op een van die Jaers se lewe nie, maar ook op die bloedskuld wat die Jaers besig is om af te betaal. Lesers word teruggeneem na die verlede en leer hierdie keer die presiese oorsaak van die bloedskuld. (In die vorige twee boeke is daar net telkens daarna verwys.)

“Die verskyning van Check Palmer het verrykende gevolge vir verskillende karakters in hierdie verhaal. Die verlede haal jou altyd in, daarvan kan jy seker wees.

“In Kanniedood fokus die skrywer veral op bendes en kry die leser ’n goeie idee hoe gevaarlik dit werklik is wanneer bendes in gebiede bedrywig is. Soos die verhaal ontvou, trek die knop op my maag al hoe stywer, want die gevaar raak al hoe groter. Kan daar ooit ’n goeie uitkoms uit hierdie benarde bendeverwante situasie wees? En sal al die Jaers en hul vriende veilig wees, of sal van hulle aan die kortste ent trek? (...)

“Wat my opgeval het met die lees van die verhaal, is die goeie kennis wat Joha van Dyk het oor bendes en hoe hulle te werk gaan. Dit is duidelik dat sy deeglike navorsing gedoen het oor die komplekse wêreld van Suid-Afrikaanse bendes en hul kultuur. Die verhaal weerspieël die realiteit waarmee Suid-Afrikaners daagliks gekonfronteer word.

“Aan die begin van die verhaal het ek Kalla se aksent nogal steurend gevind, maar soos ek verder met die verhaal gevorder het, het dit duidelik geword dat dit afbreek sou doen aan die verhaal indien die aksent nie teenwoordig was nie.

 Kanniedood kan alleenstaande gelees word, maar ek sou aanbeveel dat lesers die hele sage in volgorde lees. Dit sal goeie insig gee in die storielyn en so sal die lesers ook die Branderjaers en ander karakters leer ken soos hulle ontwikkel.”

In 2024 wil Naomi Meyer by Joha weet of sy ander werke benewens skryf het waarmee sy ’n inkomste verdien: “O, nee, skryf is nie my manier om ’n inkomste te verdien nie. Ek is nog ver van daardie vlak – indien dit ooit my vlak sal kan raak (hou maar duim vas, want dit is die droom). Ek studeer nog, maar ek was baie fortunate om ’n beurs te verdien – die NRF-beurs. Ek werk al vanaf my honneursjaar by ’n maatskappy – Leaply – aanlyn. En ek het al getutor en by die universiteit se biblioteek gewerk. Ek is nog onseker wat ek gaan doen wanneer ek klaar is met my PhD. Daar is baie opsies, maar ek hou daarvan dat ek nie weet nie. Ek het na skool gaan swot en aangehou tot nou, by my PhD, so ek sal ’n gap jaar wil neem, waar ek werk ook, maar dalk nie in die akademie nie. We’ll see.” (LitNet, 23 Februarie 2024)

Joha ry nie self branders nie, maar, sê sy vir Naomi Meyer, sy wens sy het! “Ek wil nog eendag ’n les neem – baie van my pelle is branderjaers (in my opinie). Hulle is gewaagd en motiveer my ook om my horisonne uit te brei.

“Ek geniet dit om in die see te swem wanneer ek gelukkig genoeg is om naby soutwater te kom. Ek lees. Ek het onlangs met klei begin speel en weer my verfkwaste opgetel. Elke nou en dan tel ek ’n kitaar op, en ek probeer gedigte skryf. Ek geniet dit om tyd saam met my mense te spandeer, live musiek shows te kyk.”

So tussen die skrywery en studies deur het Joha ook kans gehad om met ’n beurs in Duitsland te gaan studeer en het sy ook besoeke aan Frankryk, Nederland en Amerika afgelê, vertel Joha se ma, Veronica, ’n voormalige DA-LP aan Netwerk24 (8 Februarie): “En dan was ek en sy op die spur of the moment Oostenryk, Boedapest en Praag toe. Dit was so ongelooflik.”

En toe op Sondag 2 Februarie 2025 is Joha van Dyk (27) onverwags oorlede. Sy het die Saterdag saam met vriende in Stellenbosch gaan stap waarna sy naar geword het en gebraak het. Sy het ook Saterdagaand van koors gekla, het haar ma vertel.

Johan Claassens, Joha se kêrel, en een van haar woonstelmaats het haar die oggend in haar kamer hoor kreun en toe hulle gaan kyk wat makeer, het hulle haar bewusteloos aangetref. Hulle het probeer om kardiopulmonêre resussitasie op haar toe te pas, terwyl hul vir die paramedici gewag het, maar dit was onsuksesvol.

Hulle vermoed dat sy erge sonsteek opgedoen het. Haar familie het versoek dat ’n nadoodse ondersoek op haar gedoen word. Sy laat haar ouers en haar broer en skoonsuster, Wian en Jessica, en hulle kinders, Diwan en Lyha, agter.

Haar familie het besluit dat sy op die familieplaas naby Kleinsee aan die Weskus ter ruste gelê sal word ná ’n private roudiens vanuit die NG Kerk Grootmist op Kleinsee. ’n Gedenkdiens vir Joha word beplan vir Donderdag 13 Februarie 2025 by die Hoërskool Stellenbosch.

Huldeblyke:

  • Veronica van Dyk, Joha se ma: “As ek nou al die huldeblyke lees, besef ek eers hoeveel die kind in haar lewe ingepak het. Boodskappe, oproepe en blomme stroom van oor die wêreld heen in, sy het soveel mense aangeraak. Ek is so bly sy was in my wentelbaan, dit was so ’n lewensverrykende ervaring om Joha in ons lewe te hê. Wat vir my tragies is, is dat sy met soveel drome en talente in die begrafnis hier op die plaas begrawe sal word. Daar is soveel drome wat vir ons almal nooit meer beskore is nie.” (Netwerk24, 8 Februarie 2025)
  • En in die begrafnisbrief: “Mamma kan nie dink aan my lewe, ons lewe sonder jou nou daarin. Dit is ’n pyn wat nie verwoord kan woord nie, soos die stuk histerie wat in my keel vasgesit het met die besef dat hulle jou nie gaan bybring nie. Dit was toe inderdaad jou laaste jaar op Stellenbosch.” (Netwerk24, 10 Februarie 2024)
  • Willem van Dyk, Joha se pa: “Joha, jy was pa se engelkind. Niemand het die vermoë gehad om my gemoed so gou van negatief na positief te verander soos jy met jou liefdevolle sonskyn-geaardheid nie. Pa wil vra hoekom en hoekom so jonk? Dit was te vroeg, maar wie kan die Vader se wil uitoorlê? Ek weet dat God sy mooiste engel net aan ons geleen het – vir hopeloos te kort.” (Netwerk24, 10 Februarie 2024)
  • Johan Claassens, haar kêrel: “Ek het Joha ontmoet tussen ’n klomp vriende, maar dit het die aand vir my gevoel asof dit net ek en sy was. Al is my storie met Joha kortgeknip en al dink ek nou met só ’n seer hart aan al die stories wat ons nog saam wou maak, troos ek myself dat sy daar was en dat ek haar liefde kon beleef en kan koester.” (Netwerk24, 10 Februarie 2025)

En vroeër: “Sy het so ’n kinderlike vreugde gehad wat nie naïef was nie. Sy was altyd opgewonde oor alles en net permanent gelukkig. Jy het haar altyd sien glimlag, maak nie saak wat om haar aangaan nie.” (Netwerk24, 8 Februarie 2025)

  • Mia Oosthuizen, kinder- en jeugboekkenner en manuskripontwikkelaar: “Joha was ’n reus in wording in Afrikaanse jeugfiksie. Haar unieke stem en temas wat sy in haar trilogie aanspreek, is vernuwend en het talle lesers na Afrikaanse boeke toe (terug) gelok. Ek is stil geskok.” (Netwerk24, 3 Februarie 2025)
  • NB-Uitgewers, uitgewers van Joha van Dyk se boeke: “In 2022 is sy aanvaar vir die Humboldt Universiteit kortkursus: ‘The Berlin Wall and the Cold War Era’ in Berlyn. Sy ontvang die Dudley D’Ewes-beurs en die Harry Crossley-beurs en word ook gekeur vir befondsing van die Nasionale Navorsingsfonds (NRF) om haar PhD te voltooi. In 2024 is sy aangewys as naaswenner in die Kaapse Wynlanddistrik se toekenning vir Fenomenale Vroue vir die Bevordering van Afrikaans. Joha se verbeeldingryke werk het die ervaring van jong mense in Suid-Afrika op ’n unieke manier beskryf wat tieners weer opgewonde kon maak om boeke in Afrikaans te lees. Dit is ongehoord dat skrywers op so ’n jong ouderdom al so bekwaam was om ’n stem aan hul generasie te gee. Dit was ’n groot voorreg om vir Joha te ken en haar werk uit te gee.” (Facebook, 3 Februarie 2025)
  • Simone Hough, uitgewer by Human & Rousseau en Joha van Dyk se redakteur: “Haar eerste manuskrip wat ons nie gepubliseer het nie, het egter tekens van Joha se rou potensiaal getoon wat net ontgin moes word. En ek het gevoel daar is iets besonders aan Joha. Ek het haar vir koffie genooi en dit was die begin van ’n spesiale vriendskap. (...) Die Vrydag voor Joha se dood het ek die laaste keer met haar gesels. Sy het reeds die plot van haar volgende boek teen die muur opgeplak gehad, en was besig om daaraan te beplan. Sy moes egter eers ’n ander projek afhandel. Soos wat ek vir Joha ken, weet ek daar lê honderde notaboekies vol wat sy geskryf het met goed wat sy vir die volgende twee boeke beplan het. Ons het baie gepraat oor wat nog met die karakters gaan gebeur en in watter rigting die storie sou beweeg. En nou weet ek nie. (...) Ek dink ’n mens kan definitief haar werk as grensverskuiwend en genre-verruimend beskryf. Dit het iets heel anders na die wêreld van jeugboeke gebring. Sy was jonk, en haar skryfstyl en denkwyse is baie nuut en vars.” (Maroela Media, 5 Februarie 2025)
  • Ilse Salzwedel, aanbieder van Skrywers en Boeke op RSG: “So skielik kom die dood. My innige simpatie aan al Joha van Dyk se baie vriende en haar familie en geliefdes. Sy was baie geliefd, ook in die boekbedryf. Sy was gaaf, en baie, baie talentvol. Boonop plat-op-die-aarde. Dis hartverskeurend.” (Maroela Media, 2 Februarie 2025)
  • Jonathan Amid, boekkenner en resensent: “Hier, by Oude Leeskamer, kon ons jou en Kanniedood en jou nuuskierigheid, skeppende groei en menswees vier. Ek het die Skrywer met die hoofletter S sien gedy daardie aand – lente, met alles wat groei en blom, só absoluut gepas. Jy, prentjiemooi in rooi, tot barstens toe vol lewe, ’n inspirasie. Lewensgroot. Slim. Ambisieus. Deernisvol. Ek, ons, sal jou mis.” (Maroela Media, 2 Februarie 2025)
  • An-Mari Do Carmo, senior redakteur van kinder- en jeugboeke by Lapa Uitgewers: “Joha van Dyk was ’n dinamiese en talentvolle skrywer, en haar dood laat ’n groot leemte. Ek het vanoggend net gaan sit in die kerk, toe kry ek die boodskap dat Joha van Dyk weg is. Ek het geweier om dit te glo. Dit kan nie waar wees nie. Dit moet ’n ander Joha wees. ’n Cruel grap. ’n Aaklige misverstand. Sy is dan net 27. Gesond. Sy moet dan nog die Branderjaers klaarskryf, en haar PhD kry, en so baie ander boeke skryf. Sy gaan dan eendag een van die grotes wees. Ek bly haar heeltyd voor my sien. Altyd laggend en warm. Altyd met haar rekenaar of notaboek voor haar. Sy was vir my so ’n inspirasie. Ek het gedink ons gaan nog lank skryfvriende wees, deel van die ‘onder 30-skrywers’-klub, van boekfees tot boekfees saam kuier, lag oor mense wat nie ons name kan reg uitspreek nie.” (Maroela Media, 2 Februarie 2025)
  • Deborah Steinmair, skrywer: “Dis ’n droewe dag vir Afrikaanse jeugfiksie – ons het nog baie boeke van hierdie jong ster verwag. Innige meegevoel aan haar familie, geliefdes en vriende.” (Vrye Weekblad, 2 Februarie 2025)
  • Hoërskool Stellenbosch: “Dit is met ’n swaar hart waarmee ons die nuus deel dat Joha van Dyk (matriek 2015) vanoggend, 2 Februarie 2025, oorlede is. Joha was ’n veelsydige skrywer en uitnemende jong vrou wat alles met deernis en selfvertroue aangepak het. Sy het ’n spesiale plek in die harte van almal by Hoërskool Stellenbosch en ons wens haar familie en vriende vrede en liefde toe gedurende hierdie moeilike tydperk. Joha, baie dankie vir die impak wat jy op die lewens van die mense om jou gehad het. Jou nalatenskap leef voort. Rus sag, liewe Joha.” (NuusFlits, 3 Februarie 2025)
  • Helena Boekeblad: “Joha van Dyk, jy het my jou skrywersmamma genoem. Ons het verlede week nog gesels en planne gemaak vir ’n skrywersbesoek in mid Feb. Ek sal ons knus padgeselsies altyd onthou. Hoe opgewonde jy was toe jy en Johan begin uitgaan het. En die dag toe jy vinnig ’n klomp boeke in my kar moes teken omdat die verkope ons almal se verwagtinge ver oortref het. Wat ’n voorreg om saam met jou te kon werk. Jy was ’n inspirasie vir oud en jonk. Ons sal jou nooit vergeet nie. Jou familie is in ons gebede. RIV.” (NuusFLits, 3 Februarie 2025)
  • Rina Gous op Facebook: “In September 2022 het ek en Annecke die voorreg gehad om Joha van Dyk by The Book Keeper Shop te ontmoet. Ons het toe albei reeds haar eerste twee boeke gelees en was vasgevang in die stories en haar talent. Sy en Annecke het dadelik gekliek en gesels soos net twee jong vroue kan. Annecke het ook die voorreg gehad om ’n onderhoud met haar te voer vir Stefaans Coetzee se radioprogram. Joha se afsterwe is ’n reuseverlies vir Afrikaans en spesifiek ons jongvolwassenemark wat haar so nodig het. Ons onthou haar veral vir haar ongelooflike talent en inspirasie – sy is deel van Annecke se studierigtingbesluit. Maar ook onthou ons haar vir haar onblusbare lewenslus, reuse-entoesiasme en sonskynpersoonlikheid. Ons innige simpatie aan haar ouers, familie, geliefde en vriende.” (LitNet, 3 Februarie 2025)
  • Charlene Bekker in The Potch Gazette: “Met haar onverwagse heengaan is daar ’n leemte gelaat – nie net in die lewens van haar vriende en familie nie, maar ook in die Afrikaanse letterkunde. Sy was besig om momentum te bou, om haar stories met die wêreld te deel, en toe gebeur die onverwagse. Maar as daar een ding is wat seker is, is dit dat skrywers nooit regtig weggaan nie. Joha se woorde leef voort in haar boeke, haar poësie en die herinneringe van almal wat haar geken het. Haar stories het reeds mense geraak, en dit sal aanhou om dit te doen vir jare wat kom. So, as jy ooit een van haar boeke in die hande kry, lees dit. Nie net omdat sy ’n talentvolle skrywer was nie, maar omdat haar woorde wys hoe sterk storievertelling kan wees. Want Joha van Dyk was nie net iemand wat geskryf het nie – sy was iemand wat stories geleef het.” (The Go-To-Guy, 3 Februarie 2025)
  • Anri van Helsdingen, vriendin van Joha van Dyk: “Joha se ‘emmerskoplysie’ het in 2023 begin toe ons vir die eerste keer gaan roei het en ’n WhatsApp-groepie daarvoor ontstaan het. Daar het ons ’n klomp plannetjies gemaak en werklik mekaar se drome en avonture gevier. Een van die groot dinge was die planne wat ons gemaak het om in Junie saam in Europa te toer. En die klein dinge was net so spesiaal vir haar, soos toe ons bloubessies gaan pluk het en gaan roei het. Dit was ook op haar lysie om vir ons haar ouers se plaas in die Noord-Kaap te gaan wys. Die plaas was iets waarop sy onmenslik trots was en haar liefde vir haar ouers was onbeskryflik.” (Netwerk24, 8 Februarie 2025)

Publikasies:

Publikasie

Branderjaer (Branderjaer; 1)

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780798180481 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vuurvreter (Branderjaer; 2)

Publikasiedatum

2022

ISBN

97780798182829 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kanniedood (Branderjaer; 3)

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780798183802 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen 

Resensies en besprekings

 

Artikels oor en deur Joha van Dyk

Joha van Dyk se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2025-02-12 gepubliseer.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Joha van Dyk (1997–2025) first appeared on LitNet.

The post Joha van Dyk (1997–2025) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 321


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>