![]() Foto: Verskaf
|
Sêgoed van Shirmoney Rhode Oor haar grootwordplek Elsiesrivier: “Ek is nog altyd Shirmoney van Elsiesrivier, al bly ek nie meer daar nie. Elsies loop in my bloed. Die lewenslesse wat ek baie keer deur ervaringe in Elsies geleer het, het my die mens gemaak wat ek vandag is.” (LitNet, 23 September 2016) Hoekom skryf sy? “Daar is baie redes hoekom ek skryf. Maar die belangrikste rede is sodat ek my storie, wat baie keer te doen het met mense om my en mense in my gemeenskap, op kan teken. As ek dit nie doen nie, gaan niemand dit vir my doen nie. En as iemand anders dit sou doen, sal dit nie met dieselfde insig gedoen word nie. Die storie is oral rondom ons. En baie gaan dit verby ons omdat mense voel hulle is nie goed genoeg nie. Ek skryf omdat ek weier om te wag vir iemand om dit namens my te doen.” (LitNet, 23 September 2016) Wie is Shirmoney Rhode vandag? “Ek het haar nog nie heeltemal uitgefigure nie, maar sy’s baie gemaklik in haar vel. Sy’s unapologetic oor haar herkoms en wie sy is. Sy’s loud maar het ’n baie klein hartjie. Sy hou vas aan haar waardes wat sy geleer was. Sy is lief vir God en probeer soveel as moontlik in vrede leef met haar medemens. Sy is verskriklik eerlik, met haarself en ander. Sy is ’n Afrikaanse juffrou wat deeltyds skryfwerk doen (want sy soek nog die engel wat haar sal betaal om voltyds te skryf). Sy’s van die rak af en deel die lewe met ’n baie mooi man. Sy hou van poetry, drama, hike, lees en slaap (as daar tyd is).” (LitNet, 23 September 2016) Oor haar inspirasie: “Alles om my inspire my. Ek het nou die dag droëwors by ’n man gekoop in Haltroad. Hy het sy dogtertjie van so 9, 10 jaar oud by hom gehad. Hy’t ook ’n sak met nuwe klere wat hy vir haar by Pep gekoop het, gehad. Hy sê hy koop en verkoop droëwors op naweke vir haar klere en vir ’n skoolkamp. Nou daais mos poetry. En dis goed soos daai wat my poetry inspire. Dis often die tipe goed wat niemand wil raaksien in ons gemeenskappe nie wat ek raaksien en oor skryf. Maar baie keer skryf ek ook oor die injustices en sosio-economic issues wat om my gebeur. Ek probeer altyd om die ‘doubles side story’ van ons gemeenskappe vas te vang in my werk.” (LitNet, 23 September 2016) Oor name: “’n Naam is ’n groot ding. Dis ’n draer van identiteit. Dis soveel meer as net ’n naam. Dis omtrent altyd die eerste ding wat mense van jou wil weet as hulle jou ontmoet. Ek vat name baie ernstig op. My naam word soms op so baie verskillende maniere uitgespreek dat ek dit nie eers meer kop toe vat as iemand dit verkeerd uitspreek nie. My biologie-meneer het my altyd Shir-money genoem. Die klas het dit natuurlik die snaaksste gevind. Maar ek was heel OK daaroor, want ek is nie moeilik oor my naam nie. Ek het nie ’n tweede naam nie, maar ek wou altyd een hê, toe gee ek myself sommer een: Shamia. En my een vriendin het sommer nog een by gesit: Rhomecia. En dis die lekkerste om te hoor hoe sy ‘Shirmoney Shamia Rhomecia Rhode’ sê as sy haar foon optel. Shamia, wat op my Facebook-profiel gesave is, het al sy voetjies tot in my offisiële korrespondensie gemaak. Mense glo wragties dis my tweede naam.” (LitNet, 21 Junie 2016) “Daar is krag in ’n naam. Maar ’n goeie naam is meer as net ’n klomp aangelaste letters. ’n Goeie naam word nie by geboorte verkry nie. Om ’n goeie naam te kry vat tyd. Dit word oor jare van menswees gesaai. En mense maak foute. Moet dit ook nou nie teen hul name hou nie.” (LitNet, 21 Junie 2016) |
Gebore en getoë
Shirmoney Rhode is in 1991 in Elsiesrivier gebore. Haar ma was 25 toe Shirmoney gebore is, vertel sy aan Marlene Malan (Rapport, 13 Augustus 2017) en “ek het van geboorte af by my ouma Frances gewoon. My ma was Oupa en Ouma se jongste dogter en het nie ’n eie huis gehad nie.”
Shirmoney se ouma Frances het haar eie dramatekste geskryf vir die seniorburgerklub waaraan sy behoort het: “Ek en my niggies en neefs was altyd so beïndruk met haar werk dat ons dit vir al die ander kinders in die straat geleer het,” vertel sy aan Malan. “Ons het hard geoefen aan Ouma se werk, want ons wou dit in die gemeenskapsaal opvoer. Dit het nooit gebeur nie, maar om te sien hoe Ouma se tekste, wat sy met die hand geskryf het, lewe kry, het mý geïnspireer om te skryf.”
In 2009 op hoërskool aan die Range Hoërskool was Shirmoney kaptein van die o/17-meisies-atletiekspan wat die trofee as beste span verower het.
Sy doen al van 13 jaar oud af poetry, vertel Shirmoney aan Naomi Meyer op LitNet. “Die eerste keer wat ek ’n poem voor mense gedoen het, was toe ek gevra was om ’n speech te maak by my laerskool se prysuitdeling.”
Op skool het die ander kinders haar gespot oor haar skryfwerk, dus het sy nie te koop geloop daarmee nie: “By die huis het ek net gepraat van my ‘poetry-goed’. Eers onlangs (2017) het ek Ouma saamgenooi as ek gedigte voordra. Ek was baie pessimisties oor naskoolse studie, oor ek geweet het ons kan dit nie bekostig nie. Eers ná ek matriek geslaag het, het ons moeite gemaak hiermee. Toe ek eers met tale begin, was daar geen keer nie. Ouma veral was baie trots op my, want ek was die eerste een in die familie wat gaan studeer het.”
Ouma was ook haar versorger: “Sy was altyd daar. Sy’t my leer aantrek en hare kam, aangemoedig om nuwe dinge te probeer. Haar grootste invloed op my is haar standvastige geloof. Haar gebede dra my tot vandag. En wanneer ons vandag saam kuier, luister ons klassieke musiek en eet skelmpies saam lekkers. Sy het my die vrou gemaak wat ek vandag is. Ek skuld haar baie,” sê Shirmoney aan Marlene Malan.
Shirmoney het twee broers gehad. Sy was ’n jeugdige 15 jaar oud toe sy haar oudste broer, Clayon, se lyk die oggend van 26 September 2006 op ’n verlate skoolveld moes gaan uitken, vertel sy aan Kuier (7 Maart 2018). Clayon was voor sy dood vir twee jaar in die Pollsmoor-gevangenis weens aanklagte van gewapende moord en poging tot moord.
“Dié poging tot moordsaak het ontstaan as gevolg van sy inisiasie tot ’n bekende bendegroep. My oupa, wat eintlik die rol van Clayon se pa gespeel het, het gesterf toe Clayon 14 jaar oud was en daarna het dit vir hom gevoel asof sy hele lewe inmekaar tuimel.”
’n Paar dae ná Clayon se dood het Shirmoney se ma uit haar ouma se huis getrek en, vertel sy verder, “as 15-jarige het ek haar gehaat. Maar as ek nou terugkyk, besef ek dat my ma, veral daardie tyd, so stukkend was. ’n Jaar voor Clayon se dood het haar kêrel (Clayon se pa), Tommy, ook gesterf. Ek kon nie veel doen om haar pyn minder te maak nie.”
Ná Clayon se dood het Shirmoney haarself belowe om seker te maak dat haar jonger boetie Clayton nie ook die bendepad sal stap nie: “En hy het nie. Hy het van kleins af afgryse vir bendegeweld getoon, want hy is as kleuter reeds blootgestel aan die wreedheid daarvan.”
Die twee van hulle was van Clayton se geboorte af baie na aan mekaar. Daar was ’n verskil van 10 jaar in hulle ouderdomme en sy was baie ernstig dat sy as ouer suster amper die rol van sy ma moet vul. Ná haar ma se vertrek het sy vir Clayton gehelp met sy huiswerk, saam saans voor slapenstyd op hulle knieë gebid en was sy ook die een wat hom moes dissiplineer. En hoewel hulle by hul ouma gebly en dié mooi na hulle gekyk het, het Clayton elke naweek na sy ma gegaan en sy het ook ná werk na hulle toe gegaan.
Shirmoney het intussen matriek geslaag en vir vyf jaar gaan studeer. In haar tweede jaar het sy by ’n vriendin van haar ma ingetrek en in 2014 het sy en ’n mede-student saam ’n plekkie gehuur.
Maar in die middel van Clayton se graad 7-jaar het sy probleme begin en weens dissiplinêre probleme het hy nie graad 7 voltooi nie. In 2015 het sy en Clayton en hul ma weer saam gewoon – die eerste maal in nege jaar. Clayton het graad 7 oor begin. Maar hy het vandat hy in graad 5 was, besluit hy wil ’n DJ word.
Sy ma het vir hom ’n laptop gekoop en daarna het dinge afdraand begin gaan. Hy het uit die skool begin bly en praat het nie gehelp nie. Shirmoney het hom gevra om te loop en hoewel dit vir haar baie erg was, het sy gemeen dat dit vir die beste was. Hy is terug na sy ouma waar die bendes hom begin dreig het. Hy is na sy oom in die Strand en later na sy tannie. In Desember 2015 is hy na sy tannie op Calvinia waar hy uiteindelik sy graad 7 in 2016 voltooi het. Clayton is in 2017 na ’n kosskool net buite Kaapstad om met sy hoërskoolloopbaan te begin, maar op 27 November 2017 het hy weens bloeding op sy brein gesterf.
Shirmoney vertel verder aan Kuier: “Die jare 2016 en 2017 het met baie uitdagings gekom, maar Clayton se dood om aan te hou ongeag hoe moeilik dinge geword het, sal my altyd inspireer om self voort te stu. Ek is vandag ’n suster wat kaal gestroop is, maar wat in die proses geleer het wat dit kos om regtig lief te wees vir my broer, wat geleer het hoe en wanneer om hard te wees, maar ook wanneer om saggies te werk met die mense wie God aan my toevertrou het.”
Oor Nomme 20 Delphistraat: “Nomme 20 Delphistraat is my ouma se fisiese adres waar ek grootgeword het. Dis ’n muisenet-huis en dis waar ek gebly het vir 21 jaar. Dis nie ’n groot huis nie en ons was op ’n stadium seker so 10 mense wat in die huis gewoon het. Dit was beknop, maar ek het baie goeie memories van my kinderjare. Ons het ook nog altyd familie wat agter in die jaart woon. Die huis het ’n voorkamer, ’n kombuis, ’n badkamer en twee kamers. So daar is altyd mense wat op ’n vloer of ’n bank slaap. Die boek se titel het niks met die eintlike huis te doen nie, dit het meer te doen met die waardes wat ek opgedoen het by die huis. Ook staan die ‘Nomme 20’ voor in plaas van agter, en hier is dit baie opsetlik gedoen, juis om die tema van bendegeweld in die titel reeds uit te lig.” (LitNet, 23 September 2016)
Verdere studie en werk
Nadat sy matriek gemaak het, is Shirmoney na die Universiteit van Wes-Kaapland waar sy haar BA-graad met Afrikaans en linguistiek, haar BA-Honneurs in Afrikaans en ’n nagraadse onderwysdiploma in Afrikaans verwerf het. In 2020 verwerf sy ook haar MA-graad aan bogenoemde universiteit.
Ná haar studies gaan gee sy onderwys aan die Hoërskool Claremont in die suidelike voorstede van Kaapstad. Sy is tans ’n spesialis in Afrikaans aan die aanlyn skool KOA Akademie.
In 2016 koop Shirmoney vir haar en haar hondjie Rio ’n huis in Muizenberg. Vanaf haar slaapkamer sien sy die see en hier het sy vir die eerste keer haar eie slaapkamer, skryf sy op LitNet (24 Mei 2016): “Vanaand het ek en my hondjie, Rio, gaan stap na ’n baie lange merksessie. Dit het my laat terugdink aan en hoe en waar ek grootgeword het: Eureka Estate in Elsiesrivier. En ek hoor hoe my destydse vriende my uitlag oor ek my hond op die see stap op ’n sondig agtermiddag, soos ’n wit mens. Hoe dikwels het ons dan nie juis gepraat oor witmensgoed nie. En om ’n hond vir ’n stappie op die see te vat was beslis op daardie lysie. Ons honde was ‘jaart’-honde. Jy hou hulle aan, voer hulle en was hulle so een keer elke ses maande.”
Sy sluit haar skryfstuk op LitNet af: “Al wat ek weet, is: die lewe is regtig wat jy daarvan maak. Dit was die een reël wat my aan die gang gehou het toe ek eintlik tou moes opgooi. God, hierdie reël en my ouma se biddende knieë. Vir hoe lank ek ook al hier gaan woon, gaan ek hiér woon. Sonder skuldgevoel. Sonder angs. Sonder vrees oor wie wat van my gaan sê. Wat regtig saak maak is my hart. En Elsiesrivier sal altyd deel van my bly. Al vat die lewe my ook hoe ver daarvandaan. Ek sal terug gaan en doen wat ek kan. So dikwels as wat ek kan. Maar vir nou sal ek op die balkon van my slaapkamer staan en die vars seelug geniet.”
Sy is getroud met Isaac John de Lange.
Voor die verskyning van haar eerste bundel het haar gedigte al in 7de Reënboog verskyn en as performance poet het sy al voordrag op verskillende platforms soos Open Book Festival, Inzync Poetry, Grounding Session, Badilisha Poetry, Poetica, KKNK, Artsemble en meer gedoen. In haar werk vertel sy graag die stories van die mense uit haar gemeenskap.
Shirmoney se debuutdigbundel, Nomme 20 Delphistraat, word in 2016 deur Modjaji Books uitgegee. Die uitgewers beskryf die digbundel as volg: “Dit weerspieël die digters se ervarings in en gedagtes aan haar tienerjare en haar tyd as ’n eerstegenerasie-student. Dit speel af in Elsiesrivier. Die titel verwys na die huis en straat waarin sy grootgeword het, maar sinspeel ook die tema van bendegeweld. Die gedigte is ook die stories van die mense van Elsiesrivier.” (Die Burger, 21 Maart 2017)
Die gedigte in hierdie bundel is gedigte wat sy in die vyf tot ses jaar voor die bundel verskyn het, geskryf het, vertel sy aan Naomi Meyer op LitNet: “Ek doen performance poetry en baie van dit het eers op stage gelewe.”
Clinton V du Plessis haal in sy resensie in Die Burger (20 Februarie 2017) uit William S Burroughs se A review of the reviewers aan: “‘Write about what you know. More writers fail because they try to write about things they don’t know than for any other reason.’”
En, skryf hy, dit was met hierdie woorde in sy agterkop dat hy aan Shirmoney Rhode se eerste digbundel begin lees het. Hy beskryf Nomme 20 Delphistraat as ’n “dun, pretensielose bundel met 25 gedigte – oorwegend in Kaaps”.
In die gedigte word daar, volgens Du Plessis, gedig oor mense met drank- en dwelmprobleme, maar ook die bittereinders wat uitstyg en Shirmoney neem ook standpunt in teenoor die taal en die taaldebat, veral wanneer sy só skryf:
Ek kan oek mooi skryf.
Al sê ek dit skief en krom,
en al is’it nou nie juis geclassify
as deel van die kanon nie,
kan ek oek mooi woorde skryf.
Fok die kanon.
En dan ook:
Ek praat soes ek praat want ek is wie ek is –
’n Cape Flats girl. Ek wil’ie soes Kanna wies’ie,
Kanna wat’ie hys toe gekom hettie.
Wat vi’ hom anneste gehou het
vanaf hy geleerentheid gekry’it.
“Alhoewel ek dink dat baie van Rhode se gedigte werklik tot reg sal kom tydens voorlesing, slaag sy tog daarin om die Afrikaanse leef- en leeswêreld met hierdie publikasie ruimer te maak en kan die leser en resensent die oordeel vel dat die digter wéét waarván en waaróór sy skryf. Hierdie digter hou haar nie op met aangeplakte digterlike fieterjasies en vals vertoon nie.
“Die Afrikaanse dig-akker is yl en dun gesaai met vars nuwe jong vrouestemme uit die skadu- en niestandaardkant van die taal. Rhode is nie so angry soos byvoorbeeld Ronelda S Kamfer nie, maar Afrikaans kan doen met hierdie ryke versmelting en verbastering van tonge as hy tot al sy sprekers wil begin en bly spreek.
“Shirmoney Rhode, of jy nou daarvan hou of nie, welkom in die kanon van Afrikaans en Kaaps.”
Gunther Pakendorf bespreek Nomme 20 Delphistraat vir LitNet (28 Maart 2017): “Hierdie beskeie bundel met sy 25-tal gedigte dra die goeie nuus van ’n nuwe stem uit die Kaapse Vlakte. Shirmoney Rhode behoort tot die sogenaamde millenniërgenerasie en haar gedigte praat ’n annerste soort taal.
“Die bundel adem die gees van haar tuiste wat reeds metonimies in die titel verskyn: haar woonadres, met ’n skets deur Kobie Nieuwoudt, sodat lesers kan weet hoe dit lyk. Die ‘nomme’ in die titel verwys egter nie net na die huisnommer nie, maar ook na die alomteenwoordige bendes en hulle houvas op bykans elke faset van die lewe op die Vlakte, nes ’n mens se bestaan in jou huis jou soos in ’n gevangenis vashou en jou lewe bepaal … (…)
“Die bundel is opgedra aan haar ouma, Francis Rhode, en haar broer, Clayon, wat op ’n straathoek doodgeskiet is. Sy neem haar lesers op ’n minitoer deur die buurt waar sy onder benouende omstandighede grootgeword het en waar sy onder andere geleer het om te hardloop wanneer die bendegeweld handuit ruk… (…)
“Shirmoney Rhode se verse is nie strydpoësie soos van ouds nie; sy kla nie en kla ook nie aan nie. Sy praat padlangs oor die dikwels moeilike lewe en uitdagings vir die armstes van die armes, meestal met die gelatenheid en lakoniese humor van die oorlewendes, byvoorbeeld oor die lot van enkelma’s, wat dikwels kinders van meer as een man moet grootmaak: ‘al is ôs buite die eg/ ken ek my pa/ oftewel/ sy naam atleast/ soe is sieke ma’ nie soe badtie’ (‘buite die eg’, 15).
“Sy weier om haar lot sonder meer te aanvaar of om ondergedompel te word. Dít is haar vorm van weerstand:
Soe ek kies om te kies wat ek sê.
Ek kies om te abstain van woorde
wat soes ’n vuil lap
’n anne’ man se gedagtes besmeer
met stereotypical lies van’ie Vlaktes.
Ek bly op’ie Vlaktes ja,
ma’ ek weier
dat my mond vasgevang wôd met vlakheid. (‘jy kan kies’, 29–31)
“Daar is ’n verdere tema wat soos ’n goue draad deur die bundel loop, en dit is die taal as teken van herkoms en identiteit. (…) Sy distansieer haar met trots van die platvloersheid en vulgariteit wat die taal van die Vlaktes se mense so maklik en dikwels besmet (dalk ook met ’n bedekte klap in die rigting van sekere digters): ‘djy vloek/ hulle dink klaa’ niks van ôs/ en djy vloek om hulle te entertain’, want ‘dit gan oo’ my taal, my tong, my Kaaps/ wat in stukkies geskeur word/ en gedefine word deur ’n ma se p, ’n pa se n’ (‘djy vloek’, 16–7).
“Die bundel maak dan ook kreatief gebruik van die Kaapse variëteit – al is daar enkele verse in Standaardafrikaans – en slaan plek-plek oor na die loslit ritmes van ‘rap’ waar die rymwoorde wat skielik tussendeur opduik, die leser dwing om anders te skandeer – eintlik om die gedig ritmies hardop te lees.
“Rhode se blomtuin is vir eers effe dun besaai, maar die potensiaal is daar. Mag sy voortgaan en vervolgens ’n hele bos bont en geurige blomme lewer.”
Oor haar optredes op die verhoog en haar boek sê sy aan Meyer: “Ná my speech wat ek op laerskool gedoen het, het ek elke liewe stage wat vir my geoffer was, gevat. En oor die jare het die skaam uit my uit gedig. Die boek is ’n groot wen vir my. En dit voel goed om finally my goed op blaaie te sien. Maar niks sal die gevoel van die spoken word vir my top nie. Daai moment wat jy voor ’n audience staan en jou hart met hulle deel, in jou eie stem. Daai is iets wat die bladsye van my boek dalk nie vir mense gaan gee nie, want hulle gaan dit lees in hulle eie stemme.”
Tydens die Suidoosterfees van 2017 is ’n uitvoering van die riel as deel van die fees op die planke gebring en ná hierdie vertoning skryf Shirmoney as volg op Instagram:
“Ek het’ie woorde om te beskryf hoe gevaa’lik die show gister was nie. Ek’s op ’n creative wave soes die besagheid my inspire het om net meer te wies wat ek is. Om te loep soes ek loep en praat soes ek praat. Dit was soe ’n positive message dat ek heeltyd trane moes afvee. En dit was op die plek waa’ dit hoort man. Ons stemme tel nie net wanne’ ons besig is om te skarrel en smous’ie. Nie net op’ie straat’ie. Maa in teaters. En op papier. En op’ie TV en op’ie radio. En ons MAG exist hie soes wat ons doen. Ek is soe bly vir die jong mense wat in die crowd was. Daa word mos baie gesê bruinmense het’ie kultuur nie. Maa vandag wiet hulle watste krag loep in hulle are.” (LitNet, 5 Mei 2017)
In 2021 was Shirmoney een van die deelnemers aan die derde Ontlaering-kongres wat aanlyn aangebied is. Ontlaering is ’n projek wat ten doel het om platforms te skep vir moontlike herverbeeldings van die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde, maar dit strek ook verder deurdat die plek en breër rol van Afrikaans in die wêreld ondersoek word. Die eerste Ontlaering is in 2018 in Potchefstroom (NWU) en in Pretoria (UP) gehou. Die tweede, in 2020, het by die Qwaqwa-kampus van die UV plaasgevind.
In 2022 was Shirmoney saam met Kerneels Breytenbach ’n beoordelaar van LitNet se poësiewedstryd waarin lesers genooi is om gedigte oor kos, of die tekort daaraan, te skryf.
Shirmoney dien ook op die Adviesraad van die Sentrum vir Navorsing in Meertaligheid en Diversiteit saam met persone soos Michael le Cordeur, Hein Willemse, die Trantraal-broers, Ronelda S Kamfer, Wannie Carstens en andere.
Publikasies:
Publikasie |
Nomme 20 Delphistraat |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9781928215196 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Modjaji Books |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Artikels oor Shirmoney Rhode:
- Apollis, Tenael: ’n Analise van die moeder-dogter-verhouding in geselekteerde werke van swart Afrikaanse skrywers. MA-tesis, UWK, 2020
- Bonthuys, Marni: Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: die debute van Ronelda S Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips. LitNet, 26 Maart 2020
- Hobbs, Marlize: Hoe die leser en die teks mekaar lees: Marlize Hobbs oor Shirmoney Rhode. LitNet, 8 November 2013
- Malan, Marlene: My ouma is in kaneel. Rapport, 13 Augustus 2017
- Meyer, Naomi: Onderhoud: Shirmoney Rhode oor Nomme 20 Delphi Straat. LitNet, 23 September 2016
- Nel, Hennely: Die vertaling van diverse coloured vroustemme in die Afrikaanse poësie: ’n feministiese benadering. MA-tesis, US, 2022
- Poet returns to Delphi Street. Netwerk24, 16 November 2016
- Rhode dig oor Vlakte, studie. Die Burger, 21 Maart 2017
- Shirmoney Rhode
- Shirmoney Rhode
Artikels deur Shirmoney Rhode:
- #SAS4_2015 – Shirmoney Rhode. LitNet, 6 Oktober 2015
- ATKV-Taalerfenissimposium: Djy makie reg’ie. LitNet, 20 September 2018
- Consumerism. LitNet, 25 Oktober 2016
- Die oes groot ma die arbeiders min. LitNet, 3 Julie 2014
- ’n double side story [gedig]. Ons skryf Afrikaans, 1 Oktober 2018
- Kô lat ons praat! #prefablyinkaaps. LitNet, 4 November 2013
- Matilda Vantura (Klein). The Heritage Ambassador Programme (Distrik Ses Museum), November 2018
- My Storie: Suster se verlies groot toe sy albei broers verloor. Kuier, 7 Maart 2018
- NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte: ’n humanitêre krisis. LitNet, 8 Augustus 2019
- Resensie: Lang pad onnetoe deur Jason Reynolds, vertaal deur Nathan Trantraal. LitNet, 29 Augustus 2019
- Shirmoney Rhode bring hulde aan Adam Small. LitNet, 1 Julie 2016
- Shirmoney Rhode – Nomme 20 Delphi Straat [voorlesing – video]
- Swatland deur Ashwin Arendse [resensie]. Tydskrif vir Letterkunde, 2022
- The pen is mightier than the gun. LitNet, 3 Junie 2016
- Uit die argief: Hare verskrik. LitNet, 31 Augustus 2016
- Van Elsies na Muizenberg: My huisie by die see. LitNet, 24 Mei 2016
- Vrouedag 2019: Om tee te drink op Vrouedag
- Wat is in ’n naam. LitNet, 21 Junie 2016
- Wishlist
Shirmoney Rhode se ATKV-Skrywersalbum is oorspronklik op 2023-12-14 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Shirmoney Rhode (1991–) first appeared on LitNet.
The post Shirmoney Rhode (1991–) appeared first on LitNet.