Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 322

Fanie Olivier (1949–)

$
0
0

Gebore en getoë

Stephanus Petrus Olivier is op 23 Junie 1949 in Pretoria gebore. Die gesin woon aanvanklik op Stellenbosch. Sy pa, prof SP Olivier, word die eerste rektor van die Universiteit van Durban-Westville en hulle verhuis na Durban waar Fanie in 1966 aan die Hoërskool Port Natal matrikuleer.

Hy word groot in ’n huis vol poësie. Sy ma en pa was albei lief vir letterkunde en boeke – nie nét Afrikaans nie, maar óók Afrikaans. In ’n onderhoud met Izak de Vries (OuLitNet) vertel Fanie dat hy van kleins af gedigte gehoor het en rympies aangeleer het terwyl hy nog met die oë van ’n kind gekyk het. Op dié manier het dit dan ook gekom dat hy wisselende klankritmes opgetel het. “Om gedigte te skryf, was maar soos om ander goed te skryf, het ek gedink.” Fanie publiseer reeds in standerd ses van sy gedigte in die skoolblad.

Verdere studie en werk

In 1967 gaan Fanie na die Universiteit van Stellenbosch waar hy BA Regte voltooi en in 1971 sy MA in Afrikaans-Nederlands (cum laude) verwerf. Op Stellenbosch is hy deel van prof DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium. Aan Izak de Vries vertel Fanie dat hy baie meer geleer het oor die “bekyk van gedigte” in die “poetry evenings” in die Coachman’s Cottage en veral by WEG Louw baie uitgevind het oor wat verse kan beteken. “Opperman, het ek gevoel, was afsydig en soms amper afwesig in die laboratoriumklasse.

Fanie was alreeds in sy studentejare op Stellenbosch in die spervuur oor sy skryfwerk. In Augustus 1971 het Die Matie, Stellenbosch se studentekoerant, Fanie se gedig “fees en hemelvaart op Stellenbosch 1971” gepubliseer:

bedees stroom troppe skape om nege-uur
die tempel in kyk grootoog na die predikant.
dié swaai behendig oor die teks sy hand
en bid dat God weer groenvoer vir die droogte stuur.
in opdrag van ’n ander herder bo
swaai ons bedonnerd vlaggies
klap hande vir ’n toespraak van minister So-en-so.
maar by leeu-gamka in ’n droë sloot
lê vier studente langs ’n skewe windpomp dood.

Dit het ietwat van ’n polemiek ontketen toe J von Backström ’n brief aan Die Matie (6 Augustus 1971) geskryf het waarin hy streng beswaar gemaak het teen die plasing en die strekking van die gedig. Daar was ook briewe wat hierdie uitspraak weerspreek het en gedui het op die letterkundige waarde van die gedig. 

Fanie het sy kritici só geantwoord: “verskoon die digter / hy is brandsiek en op soek / na ou-lappe en aalmoese / maar pasop! / hy ruik na mens.” (Die Matie, 3 September 1971)

In September 1972 is ’n ander gedig van Fanie Olivier in Irawa, die Universiteit van die Vrystaat se studenteblad, geplaas en weer was die tonge los:

van maagde kan slegs in poësie gepraat word
en predikante bly skynheilig wanneer hulle dit
probeer bewaar want elke man is bronstig.
Soos ’n donkie en elke vrou behoeftig soos ’n teef.
Saans sak ek op my knieë maar as ek bid
voel ek skielik hoe my borste liggies ruk.
Die hele nag lê ek op my bed en beef
totdat die son my droom verkrag en met ’n sug
ek heilig moeg en ongesteurd uitstruikel in die lug. (Vaderland, 26 September 1972)

Hieroor het Fanie hom as volg uitgelaat: “Die digter kan hom nie losmaak van sy gemeenskap nie, maar dit bly sy taak om die gemeenskap genadeloos met die waarheid te konfronteer. Onder sekere omstandighede is dit die digter se plig om sy waarneming van die realiteit só te plooi dat dit die samelewing aanstoot gee. Dít kan hy bereik deur óf sy leser te skok, óf hom só te prys dat dit hom bekommerd agterlaat.” (Die Matie, 13 Oktober 1972)

Op Stellenbosch was Fanie onder meer kunsredakteur van Die Matie en ook van Die Stellenbosse Student en loods hy ’n nuwe literêre blad, penseel, vir die studente. Gedurende sy studentejare verower hy twee keer die Nasionale Boekhandelprys van die Afrikaanse Studentekring vir sy poësie.

Na die verkryging van sy graad los Fanie vir vyftien maande af in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Natal voordat hy in Augustus 1974 na Europa vertrek vir sy doktorale studie in algemene literatuurwetenskap nadat ’n groot Nederlandse beurs deur die trustees van die Studiefonds voor Zuid-Afrikaanse studente aan hom toegeken is. (Tempo, 2 Augustus 1974)

Hy verwerf sy LittDrs aan die Universiteit van Utrecht en in 1985 sy DLitt oor die mistieke in die Afrikaanse poësie onder die promotorskap van TT Cloete aan die Potchefstroomse Universiteit. Tydens sy tyd aan die Universiteit van Natal verwerf hy bekendheid as fliek- en teaterresensent van Tempo. Hy was ook later kunsredakteur van Rapport en Tempo.

Met sy terugkeer vanaf Nederland aanvaar hy ’n pos aan die Universiteit van Durban-Westville as senior lektor in Afrikaans en Nederlands. In 1982 word hy aangestel as gewone onderwyser in Afrikaans aan die Union High School in Graaff-Reinet. “My skryfwerk is een van die groot redes waarom ek besluit het om platteland toe te verhuis, want ek persoonlik beskou Durban nie as ’n stimulerende omgewing nie,” vertel Fanie aan Tempo (20 November 1981). Hy gee ook onderwys aan Ridgeway College in Louis Trichardt.

In 1989 is Fanie deel van die groep Afrikaanse skrywers wat die ANC by die Victoria-watervalberaad ontmoet het. In 1990 word hy verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, ’n posisie wat hy tot 1992 beklee. In 1995 word hy lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Fanie voltooi later jare sy LLB aan die Universiteit van Suid-Afrika en in 2002 word hy toegelaat as advokaat in die Hooggeregshof van Suid-Afrika.

Hy word aangestel as hoof van die Departement Afrikaans by die Universiteit van Venda en word later dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Hy tree in Junie 2004 hier af.

In 1992 word Fanie deur die studente van die kampus van die Universiteit van Venda verjaag nadat hy die studenteraad in ’n brief gekritiseer het omdat hulle geëis het meer studente moet op die kampus toegelaat word as waarvoor daar geriewe is. (Beeld, 12 September 1992) 

Hy is daarop as ’n rassis uitgekryt en tot ’n “ongewenste persoon” op die kampus verklaar. Die raad van die universiteit het daarop drie maande verlof aan hom toegestaan, maar hy was steeds nie welkom op die kampus nie. Fanie het die saak Hooggeregshof hof toe geneem sodat ’n raadsbesluit toegepas kan word wat hom in staat sal stel om na die kampus terug te keer.
 
In 1995 begin ’n sage wat ook later in die hof ’n draai gaan maak het. In 1995 kom Fanie te hore dat ’n kredietkaart aan die Universiteit van Venda se visekanselier, Nkondo, uitgereik is, op gesag van die universiteitsraad. Fanie, ’n verkose verteenwoordiger van die akademiese senaat op die raad, was daarvan bewus dat so iets nooit goedgekeur is nie. Hy skryf aan die bank wat die betrokke kaart uitgereik het om besonderhede. Nadat die raad hiervan verneem het, stel hulle ’n dissiplinêre ondersoek teen Fanie in omdat hy aan die bank geskryf het. Hy word skuldig bevind omdat hy hom aangematig het om namens die raad op te tree en word van die raad en die senaat geskrap. Fanie is hof toe, maar die oggend wat sy aansoek aangehoor moes word, is hy ingelig dat die raad die besluit om hom te skors, teruggetrek het. Dit was egter net om hom opnuut aan te kla. Die ondersoek is deur die raad heringestel en Fanie is weer skuldig bevind en tydelik uit die raad geskors. Hy is ook aangesê om ’n brief aan die bank en die raad te skryf waarin hy om verskoning vra. Weer eens is Fanie na die hooggeregshof, maar die universiteit het voortgegaan om nog ’n dissiplinêre klag teen hom te lê omdat hy versuim het om die brief te skryf. 

Intussen het Fanie die uitgawes op die kredietkaart verwys na die spesiale ondersoekeenheid van William Heath, en Nkondo was verplig om R200 000 se uitgawes op die kaart terug te betaal. In ’n berig in The Citizen was Nkondo ook die hoofpersoon in ’n exposé oor die toestand op die kampus. Barney Pityana, voorsitter van die universiteitsraad, beskuldig daarna vir Fanie in ’n advertensie in The Sowetan en City Press dat hy teen transformasie is en apartheid voorstaan. In Mei 2001 het die geregtelike ondersoek beslis dat die raad se besluit omgekeer moet word en het die regter gesê dat die verteenwoordiger van die universiteit ’n blatante leuen vertel het en vir Fanie opsetlik mislei het.

Intussen is Fanie vir nog ’n dissiplinêre oortreding uit sy pos ontslaan. In Augustus 1998 skryf hy ’n interne e-pos waarin hy beweer het dat die universiteit se nuwe dissiplinêre kode aan die regering voorgelê is sonder dat die raad dit ooit gesien het en dat belangrike besluite geneem is sonder behoorlike debatvoering. Fanie is weer aangekla dat hy die universiteit in diskrediet gebring het. Hy word skuldig bevind en in Desember 1999 afgedank. Hy appelleer tot die raad, maar Nkondo dring daarop aan dat die afdanking onmiddellik van krag is. Fanie appelleer tot Pityana, wat weier om te help. Hy nader weer die hooggeregshof en in Maart 2000 is ’n beslissing deur hierdie hof gelewer dat net die raad Fanie kan afdank. Die afdanking is tersyde gestel en, hangende die uitslag van sy appèl tot die raad, moes hy in sy amp herstel word. Die universiteit het geweier om die besluit te implementeer en het die saak na die Appèlhof geneem, waar die appèl verval het. (Die Burger, 16 April 2002)

Op 1 April 2001 is die appèl deur die raad aangehoor en is hy deur die raad afgedank. Fanie is na die KVBA, wat in April 2002 ook ten gunste van hom besluit het, maar Nkondo het steeds geweier om gehoor te gee. Hierdie twis het tot in die parlement gevorder nadat Fanie Kader Asmal per brief gevra het om in te gryp. In 2004 is daar ’n skikking bereik, maar op aandrang van die universiteit moes die voorwaardes van die skikkingsooreenkoms vertroulik bly. (Beeld, 6 November 2002)

In 2005 word Fanie aangestel as professor in Afrikaanse en Suid-Afrikaanse studie aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan in Pole. As gevolg van Rike, Fanie se vrou, se siekte keer hulle aan die begin van 2006 na Suid-Afrika terug en vestig hulle hulle op Pennington in KwaZulu-Natal, waar Rike in Junie 2007 oorlede is. 

In 2010 keer Fanie terug na Pole en keer in 2016 permanent terug na Suid-Afrika. Hy is weer getroud met Antoinette Klein en in 2021 het die twee gependel tussen Pennington, waar Fanie se huis is, en Stilbaai, waar haar huis is.

Fanie is in Oktober 2002 as advokaat by die Hooggeregshof in Pretoria toegelaat. En met sy terugkoms vanaf Pole het hy weer as advokaat gepraktiseer: “Ek moes iets kry om te doen, maar die regsprofessie …. Jong, ek het altyd my bedenkinge daaroor gehad,” sê hy aan Brümmer.

Fanie vertel aan Willemien Brümmer (Volksblad, 6 Maart 2010) dat hy baie gelukkig in Pole was: “Lekker studente, lekker intellektuele omgewing, wonderlike geleenthede. Ek en Rike het verskriklik gereis … En die parallelle waarmee ’n mens werk! Hulle is ’n jaar langer as ons bevry van ’n onderdrukkende regime, maar dis so lekker om te sien dat niemand daar pak die skuld vir enigiets op mekaar nie.”

Fanie was altyd ’n sterk teenstander van apartheid en het met mense soos Steve Biko en andere aan gespreksgroepe en seminare deelgeneem. In sy bundel Verklarings 1967–1987 is daar ’n gedig oor Steve Biko.

Onder leiding van DJ Opperman en WEG Louw groei Fanie se poësie so dat sy eerste manuskrip, gom uit die sipres, in 1971 met die Reina Prinsen Geerligs-prys voor Zuid-Afrika bekroon word. In 1971 word dit deur Human & Rousseau gepubliseer. Volgens André P Brink (Die Burger, 13 Desember 1973) getuig Fanie se werk, “meer as dié van sy tydgenote, van digterlike integriteit en vakmanskap. (…) Dit is Olivier se sober versifikasie, sy vermyding van die oormaklike kleurryke beelde wat soveel ander jong digters se werk met versiering ontsier, en die soort presiese nugterheid waarmee hy formuleer en waarmee hy ritmiese konsepsuele eenhede teenoor mekaar afspeel, dat sy vaardigheid en inderdaad sy meesterskap blyk. Vir so ’n sterk, kompromislose en rigtinggéwende nuwe stem kan ons poësie dankbaar wees.” 

Oor die bundel sê AJ Coetzee (Standpunte, Augustus 1972): “Fanie Olivier se verse sonder erudisie, pretensie en té bewuste strukturering ook nog iets kan sê. (…) Olivier kan die versvorm hanteer, kan ’n stemming oproep (veral in die liefdesvers), besit die sensitiwiteit vir die delikate soort vers wat hy skryf. Maar die pitkos is nog te yl gesaai.”

Sy tweede bundel, om alleen te reis, verskyn in 1973 en maak opslae vanweë die politieke aard van die verse daarin. Hierin ontgin Fanie die gevare daarvan om die mens bloot te stel aan landskappe en mense sonder beskutting van die poësie. Op ’n vraag van Izak de Vries (OuLitNet) oor die gebrek aan punte en hoofletters in dié bundel en die najaag van die “vrye vers” sê Fanie: “Vrye vers? Ek meen dat ek in daardie opsig maar baie konvensioneel was en dit gebly het. Ek het nog altyd geglo aan die dissipline van die vorm en het op ’n tydstip as vormoefening 100 kwatryne, 100 haikoes en 50 sonnette geskryf. Gaan loer maar gerus en kyk hoeveel ‘vrye’ vers is daar eintlik. Die hoofletters? Cummings was maar een van ’n boel, en in die sestigerjare was dit in ieder geval ook in Afrikaans nogal moderig. Breyten was daar in al sy verderflike glorie. Ek het op die kleinletters besluit sodat die gebruik van ’n hoofletter ’n beduidende beduider moes word. Soos God en god. Gaan loer maar waar die hoofletters wegkruip in my gedigte.”

In Rapport (16 Desember 1973) het Ampie Coetzee sy bespreking van om alleen te reis só afgesluit: “In vergelyking met Fanie Olivier se eerste bundel gom uit die sipres, is dit ’n onbetwisbare feit dat hy met om alleen te reis sy vaardigheid as digter verhoog het. Daarmee bewys hy dat hy ’n bundel sinvol, koherent kan saamstel (met definitiewe eenhede), dat hy iets te sê het oor die digterskap (ook met sy nadele), en dat hy ongeregtighede kan raaksien en, bo alles, poëties kan presteer.”

Na Fanie se huwelik met Marlise Joubert publiseer hy in 1976 Paradysrigting van die wind, wat van die teerste liefdesgedigte bevat. Die bundel bevat net 23 gedigte en is feitlik ’n huweliksgeskenk van ’n man aan sy vrou. Dit skakel ook duidelik met Marlise se bundel So ver en verder. Fanie het aan Die Transvaler (26 Augustus 1976) vertel dat al die liefdesgedigte wat hy aan Marlise geskryf het totdat hulle getroud is, in die bundel opgeneem is. 

Niel van Tonder (Beeld, 25 Julie 1977) beskryf Paradysrigting van die wind as ’n “dun bundeltjie liefdespoësie – en met die omstandigheids-getuienis van die Olivier-Joubert huwelik in gedagte, eintlik ’n geleentheidsbundel waarvan die struktuur en stemming grootliks bepaal word deur die afwesigheid van die liefde. (…)

“Minder besware teen die bundel is die nog te maklik herkenbare invloede, nog te veel slim woordspelings wat nie altyd saamgaan met die oorheersende gevoelselement nie, miskien ’n oordaad eensydige literêre verwysings en ’n te lank volgehoue getuienis-element.

Paradys is ’n klein bundel, klein in formaat met ’n groot maat mistroostigheid, mistiek en minne. Dit is beslis nie Olivier se sterkste bundel nie en by tye wonder ’n mens of dit nie maar ’n private bundel moes gebly het nie.”

In Volksblad (29 September 1976) het Johann Johl sy bespreking van Paradysrigting só afgesluit: “Die suggestierykheid wat vroeër so vrugbaar was, het Olivier verloor – alles is té uitgesponne, té oorskryf en ook te vlak. Dit wil plek-plek selfs deurslaan dat hier sprake is daarvan dat ook die styl van die geliefde oorgegaan het op hom. Die kenmerkende afgestroopte maar tog so beeldende eenvoud is hier nie meer nie.”

Sy bundel skimmellig (1978) toon volgens Audrey Blignault ’n verrassende verruiming in sy digkuns, veral ten opsigte van sy religieuse poësie: “Wat ’n mens dadelik tref, is die omvang en verskeidenheid van die poësie in hierdie jongste bundel, nie net wat die vormgewing betref nie, maar ook die ervaringswêreld waaraan die digter vorm gee. Die besondere waarde van dié poësie word bepaal deur die digter se vermoë tot oorspronklike beelding, sy sterk ritmiese beheersing en sy seker aanvoeling vir die klankstruktuur van ’n vers. (…)

“skimmellig is méér as ’n bevestiging van Fanie Olivier se digterskap. Dit is onteenseglik die bewys van ’n verruimende ontwikkeling by dié jong digter wat ’n verblydende belofte vir die Afrikaanse poësie inhou.” (Oosterlig, 22 Februarie 1979)

“In skimmellig, die derde manifestasie ná die voorgangers, gom uit die sipres en om alleen te reis, begin straal Olivier se poësie inderdaad met ’n heel persoonlike, gedempte fosforessensie,” het Anita Lindenberg in Oggendblad van 27 Oktober 1978 geskryf. “Nie ’n helder lig wat alle ander talente omlys en teen ’n ruimer agtergrond perspektiveer nie, maar ’n eie, innige glans wat skyn oor ’n intieme ruimte.

“Uniek en volkome selfgenererend is dié straling weliswaar nog nie, daarvoor is daar in dié bundel nog te veel weerkaatsings van die bekende. (…)

“In hooftrekke is Olivier se jongste ’n nostalgiese bundel. Dit gee gestalte aan ’n bevreemdende Europese verblyfervaring en die hunkering na die mistiek en die intieme vertroudheid van Afrika. Hoewel die meeste gedigte om dié twee ervaringsterreine sentreer, sit die bundel se mooiste momente in afsonderlike sterk gedigte en nie in die geheel nie. Tog straal uit die skimmellig die gloed van ’n onbetwisbare talent.”

Oor Fanie se bundel (verklarings 1967–1987) wat in 1988 gepubliseer is, skryf Pieter van der Lugt dat hy hier sy verskyning maak as “woedende, besorgde, selfaangestelde profeet”. “(…) hierdie is protes-poësie. Dit gaan om standpunt stel - so duidelik en nadruklik soos die Staatskoerant dit doen. Proteskuns boet egter dikwels veelvlakkigheid in, omdat dit geskryf word ‘om iets te sê’. As ’n kunstenaar oor sy werk buig met ’n doel voor oë, kan hy alte maklik detail en nuanse miskyk. Verklarings is nie toegeeflike dokumente nie. Olivier se gedigte duld ook nie meningsverskil nie. Dis ’n Elia dié wat aangryp met sy stormagtigheid en intense omgee. Maar hy kom selde tot bedaring en ’n mens wens later vir oomblikke van rustigheid en afstand.” (Die Burger, 22 September 1988)

In Insig van November 1988 het René Marais geskryf: “In verklarings word ’n belangrike onderwerp aangeroer. Dis jammer dat die potensiaal van hierdie onderwerp nie in hierdie bundel verwesenlik word nie. Ook wat die verstegniese, die digterlike manier van doen, betref, ewenaar hierdie bundel ongelukkig nie die beste waartoe Olivier hom reeds in staat bewys het nie.”

Benewens sy eie individuele digbundels was Fanie Olivier deur die jare ook die samesteller van poësie-bloemlesings – Goudaar: gedigte oor Johannesburg in 1986, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (1992, 2001, 2006, 2010, 2015) en as die son kom oogknip: verse geskryf vir die sonsverduistering, Limpopo, 4 Desember 2002 (2002).

Oor die gewildheid van Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte wat vier heruitgawes beleef het, sê Fanie aan Willem de Vries (Volksblad, 7 Desember 2010): “Een van die dinge, vermoed ek, het te make met hoe mense liefdesgedigte lees. Wildvreemde mense het al vir my geskryf en gesê: ‘Weet jy, dis vir ons so lekker om elke aand drie gedigte vir mekaar te lees,’ of so iets. Ek het van die erotiese verse weggebly. Daar is books of erotic verse wat afsonderlik uitgegee word. Maar ek kon nie die versoeking weerstaan om een erotiese gedig te plaas nie. Ek wil hê mense moet dit gaan soek.”

Nadat Fanie in die laat 1980’s twee kinderboeke in Afrikaans vertaal het, begin hy vanaf 2009 ook om boeke vir volwassenes te vertaal – uit Engels en uit Nederlands. In 2009 vertaal hy JM Coetzee se Disgrace in Afrikaans onder die titel In oneer.

Nadat Coetzee die Nobelprys vir Disgrace gewen het, het Annari van der Merwe, destyds by Umuzi Uitgewers, Fanie genader om dit te vertaal. Hy wou weet hoekom juis hy, en Annari het geantwoord: “Omdat jy ’n digterlike siel het.”

Vir Fanie was die eerste groot probleem met die vertaling van Disgrace wat die Afrikaanse titel moes wees. Hy was glad nie seker dat hy die vertaling sou onderneem nie, want as hy nie eers die titel kan vertaal nie, wat van die res van die boek.

Ná drie dae het hy Umuzi laat weet hy aanvaar die aanbod. Hy het die hoofstukke begin vertaal – nie in chronologiese volgorde nie: “Ek het bly soek na ’n woord waarmee ek die titel kon vertaal en gehoop dit duik met die verloop van tyd op,” vertel hy aan Elise Tempelhoff. (Die Burger, 12 Oktober 2009) “En toe kom ek in die vierde laaste paragraaf in die oorspronklike Engelse teks op die Engelse woord ‘bewildering’ af.

“’n Lig het opgegaan en ek het vasgesteek by dié woord. ‘Verwildering’, dís wat die titel sou wees, het ek besluit. Die titel is aan Coetzee voorgelê en hy het dit afgekeur. Hy het verkies dat die Afrikaanse titel In oneer moes wees.

“Ek moes dit aanvaar, maar vir my was dit onbevredigend. Iemand het ook die heel eerste sin van ’n hoofstuk wat ek vertaal het, verander. Selfs sonder om dit met my te bespreek. In die oorspronklike teks is geskryf ‘problem of sex’. Ek het dit vertaal na ‘kwessie van seks’ (let na die allitererende ‘s’-klank), maar dis verander na ‘saak van seks’.

“Dit was vir my ’n hartseersaak, want die klank en ritme is versteur. Die woord ‘saak’ gee nie die juiste betekenis weer van dit wat in die boek bedoel word nie. Ek het nou nog nie die boek wat ek vertaal het, gelees nie. Dit is waarskynlik omdat ek bang was ek kom op nog gedeeltes af wat sonder my medewete verander is.”

In 1997 neem Fanie deel aan die KKNK met twee unieke programmeVersoekverse nooi feesgangers om hul eie gedig te bestel. Onderwerp, vorm, lengte: alles kies die kliënt self. En dan kan hy of sy nog oor die digter se skouer loer om te sien hoe die meesterstuk vorm kry. Fanie beoog om die voltooide produk binne 16 uur nommerpas klaar te hê en ’n ontevrede feesganger hoef nie op te dok nie! Met die kliënt se toestemming kan die werk in ’n spesiale feesbundel opgeneem word. Fanie is ook betrokke by ’n gratis aanbieding, Die Verslantern, waartydens ’n aantal “verskamerade bymekaar kom om van hul nuwe gedigte voor te lees. Fanie hoop om in die proses sommer ’n lekker kuier- en praatplek te skep.

Fanie hou baie van sport, omdat dit ’n gelykmaker is tussen mense wat andersins nie altyd sou uitgestyg het nie. “Spansport is goed vir gemeenskaplikheid, en individuele sport help jou om jou eie beperkinge raak te sien.” (aan Izak de Vries op OuLitNet) Hy is ook ’n gekwalifiseerde rugbyskeidsregter.

As hy wil ontspan, maak hy tuin, speel muurbal en gaan teater of fliek toe.

In 2010, 22 jaar ná die publikasie van verklarings, word Fanie Olivier se volgende digbundel uitgegee onder die titel apostroof.

Oor hierdie lang publikasie-stilte verduidelik Fanie aan Willemien Brümmer (Volksblad, 6 Maart 2010): “Die verhaal van apostroof begin in September 2004, toe ek en Rike die eerste keer na Poznan is om daar te doseer. Teen die einde van die eerste semester het die studente vir my gesê Rike beantwoord nie hul vrae nie. Dit het my regtig ontstel, want sy was ’n ongelooflike akademikus en ’n ongelooflike dosent in Afrikaans-Nederlands. Van meet af aan, soos ek skryf in die gedig ‘naskrifte’, was ek en sy ‘met mekaar verwoord vertroud’. 

“Gedurende die universiteitsvakansie aan die begin van 2005 het Rike egter Kaap toe gekom, waar ’n neuroloog die ergste bevestig het: primêre progressiewe afasie is by haar gediagnoseer, ’n aftakelende en raar breinaandoening waardeur sy geleidelik die vermoë om te praat, verstaan en lees verloor het.

“Wat gebeur is, die semantiese geheue verdwyn. Omdat jy nie meer woorde het nie, is dit moeilik vir ander om te weet wat in jou kop aangaan. Teen die tyd dat ons uit Pole teruggekeer het in Februarie 2006, het Rike net een woord oorgehad in haar woordeskat. Dit was ‘daardie’,” vertel hy verder aan Brümmer.

Hy sê dat Rike dit gebruik het as ’n werkwoord en ’n naamwoord – vir alles. Hy het maar voortgegaan om met haar te gesels al het hy glad nie geweet wat sy verstaan nie – selfs nie of sy verstaan het nie.

“Dáármee kan ’n mens saamlewe,” sê hy, “maar weet jy wat verskriklik is omtrent hierdie ding? Een van die ergste dinge wat gebeur, is dat mense sukkel om te sluk. Party mense gaan dood ná sewe maande, ander ná sestien jaar. Die dokters weet nie wat gebeur nie; hulle weet nie hoe lank nie, maar ek het my eie hipotese daaroor: Die tong is ’n spier en as jy nie praat nie, atrofieer hy. Dit tas die metabolisme aan en dan teer ’n mens letterlik uit. Toe sy dood is, het sy 25 kg geweeg.”

Fanie vertel verder oor die ontstaan van apostroof: “Die bundel het gebeur nadat ek haar as in die Schelderivier in haar geboorteland Vlaandere gestrooi het. Terug in Suid-Afrika het ek drie partytjies gehou vir haar familie en vriende: In die Kaap, op Louis Trichardt in die Limpopo-provinsie en op Grahamstad in die Oos-Kaap.

“Die wonderlikste van al hierdie paarties was dat net twee mense haar eintlik gesien het in die laaste ses maande of so. Hulle het glad nie die vrou geken waarmee ek die laaste jaar en ’n half saamgeleef het nie. Hulle het my eenvoudig laat onthou wie en wat sy was.

“Dis tóe wat ek besluit het al die gedigte wat ek vir Rike geskryf het oor die jare, gaan ek sommer in ’n lêer sit en dit per e-pos vir die mense stuur.

“Publiseer was lank nie vir my belangrik nie. Ek het verskriklik baie geskryf, maar ek was in sulke fights betrokke (veral by Venda) dat die tyd en moeite om te gaan sit om gedigte bymekaar te maak, net vir my te veel was.”

Maar vriende wat in die uitgewersbedryf gewerk het, het aan hom gekarring om die gedigte te publiseer. Fanie het vir Hettie Scholtz raad gevra en sy sê toe dat dit bietjie selfsugtig is om nie die gedigte aan ’n wyer leserspubliek bekend te stel nie.

Hy sê verder aan Brümmer: “Ek het totaal gemengde gevoelens hieroor. Ook veral omdat hier ’n soort hype is oor die bundel. Dis die soort goed wat ek nie kén rondom skryfwerk nie. Ek dink daar’s ’n paar goeie gedigte, maar ek sou nou nie die vlag swaai en sê: Hiér is Fanie Olivier weer nie.”

Oor die titel, apostroof, verduidelik Fanie Olivier op Versindaba aan Marius Crous: “Apostroof is inderdaad ’n teken wat ons gebruik om aan te dui dat daar iets weg is: die teken staan dus letterlik in die plek van wat ontbreek. Binne hierdie konteks staan die gedigte afsonderlik, en die bundel as geheel, dus in die plek van Rike, my vrou wat in 2007 oorlede is.”

Aan Willemien Brümmer sê hy: “Die apostroof is ’n wonderlike greep uit die Griekse retorika. Die apostroof is ’n retoriese middel. Terwyl jy besig is met ’n gesprek met ’n klomp mense, draai jy jou eintlik weg van daai mense en spreek iemand aan wat nie teenwoordig is nie. Dit gebeur partykeer by begrafnisse dat iemand byvoorbeeld met die dooie sal praat. Net so praat ek met Rike in dié bundel.”

Hy beskryf die gedig “gedig” in apostroof as ’n onthutsende gedig, waarin hy as digter, maar ook as advokaat met die dood leer skik het. Hy raak in hierdie gedig juis die “belaglikheid van die regstelsel” aan: “Die digter bring ’n administratief-regtelike aansoek in die hof dat God se handeling dat Rike moet doodgaan, onredelik en onbillik was. Ek wou eintlik net so ’n bietjie die gek skeer met wat die howe alles probeer doen.

“Maar ek dink nie ek het ooit in my lewe ’n gedig begin wat so onder my uitgeloop het soos daardie nie. Dit het in baie opsigte iets anders geword as wat ek gedink het. Uiteraard kan God nie daar wees nie, so dis ’n ongeopponeerde mosie. Tog, as die saak geroep word, staan God op en sê: ‘Nee, ek is hier. Ek tree in persoon op en ek dink ons moet hierdie saak net so ’n bietjie laat afstaan. Ek wil met die aansoeker praat. Ek is seker ons kan hierdie saak skik.’

“Dis nie wat ek beplan het met die gedig nie! Maar met die vers het dit vir my duidelik geword ek moet die geding met God in al sy verskillende poëtiese dimensies … ek moet vrede maak daarmee. Daar’s ander dinge om te doen en ander goeters om oor te skrywe. Die gedig was nie deel van die oorspronklike gedig nie. Tog is dit die slotsom daarvan. Dis letterlik die slot en die som en die slotsom.”

In sy onderhoud met Willemien Brümmer vertel Fanie vir haar van die gedig “tussenteks”. In hierdie gedig beskryf hy hoe dit sou wees om Rike se as in die water te laat gaan:

maar nou, eers, seël ek die goed-
koop avbob-kissie digprewel iets soos ’n gebed laat dit 
tussen die platboom-
skuite, die olietenkers, houerskepe te water
sien hoe dit soos ’n eietydse ark rustig
stroom-af dobber, gelaai met
elke paar van ons drome
veerlig, loodswaar, ’n holte vir my 
voete later.

“Dis verbasend hoeveel van wat ek my voorgestel het, het gebeur. Dit feit dat die bootjie sy gang sou neem ...”

In Die Burger (12 April 2010) is Louise Viljoen die resensent van apostroof: “In die geheel beskou vertel apostroof ’n liefdesverhaal. Die eerste gedigte soos ‘inheems’ en ‘by ’n weerbegin’ vertel van die ontluikende liefde tussen die digter en sy vrou terwyl verdere gedigte oor die bestendiging en verdieping daarvan handel.

“Die bundel-verhaal kry egter veral vaart en intensiteit met die eerste aanmeldings van die siekte wat sy vrou sal beroof van haar vermoë om te praat, in die reisgedig ‘wat die kop van stom is’. (…)

“Olivier se krag lê veral in sy vermoë om sy ervaring te struktureer tot ’n narratief wat van ’n byna argelose begin opbou tot ’n pynlike hoogtepunt, en tussendeur ook ’n fyn web van kruisverwysings te weef waarin elemente soos ligtheid van poësie figureer. (…)

“Dit is op verskillende punte in die bundel duidelik dat die digter worstel om sy intense emosie onder beheer te kry. ’n Mens sien dit onder andere in die vaste struktuur van die bundel en die streng rymskemas van sommige gedigte, veral die verse wat uit rymende koeplette bestaan. Die nadeel hiervan is dit dwing die digter soms tot lomp woordkeuses en formulerings om die rym se ontwil (byvoorbeeld in ‘verjaardag’). (…) Ten spyte hiervan is apostroof ’n roerende huldeblyk aan die liefde wat terselfdertyd sterk poësie geword het.”

Joan Hambidge (Volksblad, 22 Maart 2010) sluit haar resensie van apostroof só af: “Deurgaans bly ’n mens bewus van die digter se ontginning van woorde, sy spel met taal – óf hy is bewus van sy gebrek aan ’n woordeskat in ’n vreemde landskap, óf die geliefde se soeke na woorde …

“Dit is ’n aangrypende bundel van ’n digter wat sy regmatige plek weer kom opeis het. Dit is oop verse, geskryf uit die hart. Maar júis in hierdie direktheid lê die krag van apostroof. Daar word nou inderdaad alleen gereis.”

En in Sarie (September 2010) skryf Hester Carstens: “Die bundel is ’n uiters roerende besinning oor verlies – van ’n geliefde asook van taalvaardigheid as baken van menswees – en boonop dikwels ’n toonbeeld van hoe die verwysing na ander tekste ten beste in die poësie ingespan kan word. Olivier se gedigte het trefkrag, speelsheid en ’n ligte hand wat gewigtige emosies dra.”

11 jaar later, in 2020, verskyn ou laaie, Fanie Olivier se volgende digbundel. Die uitgewers, Naledi, skryf as volg oor hierdie sewende bundel van Olivier: “Hierdie lywige bundel bevat liefdesgedigte wat oor ’n lang tydperk geskryf is en alfabeties volgens die beginreël georden is. Talle handel oor verhoudings in die virtuele ruimte waarin kitsgesprekke ontstaan, verliefdes letterlik via Skype inkyk op mekaar se lewens en daar dikwels nie ’n wag voor die mond geplaas word nie.”

Oor ou laaie skryf Rudolf Stehle dat Olivier in hierdie bundel terugkeer na een van sy voorkeure, naamlik liefdespoësie. Hierdie gedigte is oor ’n redelike lang tydperk geskryf – party is deur vriende versoek en ander is vir spesifieke geleenthede geskryf: “Die titel verwys enersyds na verse wat in ou laaie gelê het (soos te sien op die voorplat) en nou byeengebring is. Andersyds kan dit ook slaan op ’n ou gewoonte, streek of taktiek, wat verbind kan word met die digterlike vernuf van die digter wat ‘woorde skommel sienderoë / en ongemerk [die geliefde se] kop én lyf by hom betrek’ (bl 28). Die skootrekenaar wys vooruit na die groot aantal gedigte wat handel oor virtuele verhoudings in die kuberruim. (…)

“Dis ’n bundel oor reise van hart tot hart, van aankoms en vertrek, van beginne en ook van eindes, en bowenal van verlies. Ook is hier ’n volgehoue besinning oor die skryf van poësie, onder meer as doepa teen geheueverlies én teen die fisieke afstand tussen verliefdes. In daardie gedigte waarin kuberverhoudings figureer, bevind die spreker hom oorsee ‘aan die kant van die ewenaar’, die geliefde in Suid-Afrika. Die versugting na fisieke saamwees is ’n deurlopende motief. (…)

“Op die keper beskou is die verse van wisselende gehalte en sou kon baat by ’n fermer redigeerhand. Hoewel die digter soms beïndruk met sy virtuose aanbieding van sekere rymskemas, lei dit andermaal tot onnatuurlike sinskonstruksies …. Die verknogtheid aan rym lei ook tot gedwonge woordkeuses. (…) Ewe steurend en iets wat die redigeerder moes uitgeskakel het, is die herhaalde gebruik van sekere woorde en frases in verskillende gedigte …. (…)

“Maar dié kritiek ten spyt is daar ook asemrowende beelde deur die bundel versprei … Daar is ook ’n gerf onthoubare gedigte waaraan poësieliefhebbers veel plesier sal hê. (…) ou laaie verdien ’n staanplek op die rak van elkeen wat goeie liefdespoësie in Afrikaans geniet.”

Stefan van Zyl is die resensent van ou laaie op Versindaba en hy sluit af: “ou laaie is ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse poësie en getuig van Fanie Olivier se bedrewenheid as digter van veral die optimistiese liefdesvers gesetel in nugter realiteite wat die botoon voer soos verwoord in ’n ongetitelde vers (p 96) waar thanatos en eros vir oulaas ontmoet:

wanneer ek gaan net dit:
diep diep onder waar die soetste water lê
die eerste die begin van al die diepste sê
wat mens kan kry
daar in die mooiste sagste wit
is jy

Op Woorde wat weeg skryf Joan Hambidge oor Fanie Olivier as digter in die algemeen en meer spesifiek oor ou laaie: “Daar is sekere digters wat hártdigters is. Hulle is digters wie se werk jy van buite ken en jy dra hulle saam as ’n visum op jou digterlike paspoort. So ’n digter is Fanie Olivier vir hierdie leser. (…)

ou laaie is ’n bundel veral met liefdesverse, meer nog, dit is ’n besinning oor die impak van die liefde as ’n soort woordtestament. Terselfdertyd ondersoek die digter die aard van die liefdesgedig: hoe skryf jy ’n gedig oor die liefde, daardie ‘gedragene extase’? In die Engelse digkuns is Carol Ann Duffy se Rapture ’n baken en wat ou laaie so ’n wonderbaarlike leeservaring maak, is hoe die digter vernuftig sy leggers oopmaak. Hierom heet ’n gedig ‘redding – variasies’. (…)

“Hy skryf landskapverse, stemmingsverse, politieke verse en die apostrofiese vers (die sametrekking van klanke of woorde), maar apostroof ook as retoriese strategie waar daar ’n afwesige aangesprokene is. In ou laaie is dit die geliefde, of dalk geliefdes, wat vertrek het en die gedig staan in die plek van afwesigheid / vertrek / teleurstelling. Die vorige bundel handel dan oor die dood van sy vrou, Rike Vaughn, ’n literator. (...)

“In hierdie bundel is daar ’n wegsteekproses aan die gang asof die digter nie die gedigte wou deel met die geliefde of leser nie. Dis gebêre in laaie. ’n Laai is immers ’n private bergplek. In die kamer was ’n kas, in die kas was ’n laai, in hierdie laai is daar gedigte. ’n Gepubliseerde gedig kry ander betekenisse. Die leser neem die plek in van die geliefde of aangesprokene, soos Olivier dan waarsku in ‘aanhef 3’:

geagte leser: hier is geen ander ordening geen dieper sin
nie as bloot die letter net dit waarmee die eerste reël begin (3)

“En dis hierdie ambivalensie oor die liefdesgedig wegsteek, dog ook oopmaak wat die bundel so opwindend maak. Die vers (as objek) kry ook agentskap en hoef haar nie aan die digter te steur nie! (55). Poësie is niks meer as virtuele werklikheid nie en moderne tegnologie (fone, skype, facebook) word metafories ingespan met ’n voetnoot wat ’n stelling dekonstrueer (43). Die digter is immers met die papier toe gewapen (27). Daar is nugterheid in die distigon wat heet ‘objective correlative’ (13) waar die digter telkens die liefde buite hom plaas. (...)

“In ‘aankoms 2’ (97) skryf hy oor ’n kapingsproses, maar die vers word meer as ’n letterlike kaping; dis ook ’n gedig oor hoe die koördinate eens gerym het in ’n liefdesverhouding. Die portretvers oor en vir Andrew Verster (‘uit: die kunstenaar kyk na sy model’, 101) is volgens die onderskrif geskryf tussen 19802010 en is nou na die afsterwe van hierdie digter ook ’n lykdig.

“En dis juis die punt van hierdie bundel: die dubbel-praat, die dubbel-segging ...

Die lewe seisoenaal met kommas en met 
kommapunte aan mekaar geslaan

“lees ons in ‘by ’n foto’ (72).

“In die gevlegte fuike van die digkuns het hy pragtige gedigte gevang, om een van sy beelde aan te haal.”

Publikasies:

Resensies en besprekings 

  • Brink, André P: Fanie Olivier: nuut en betekenisvol. Die Burger, 13 Desember 1973
  • Coetzee, AJ: Gom uit die sipres. Standpunte, Augustus 1972
  • Gom uit die sipres. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 1972

 

Resensies en besprekings 

  • Coetzee, Ampie: Hierdie jong digter kán poëties protesteer. Rapport, 16 Desember 1973
  • De Vries, Abraham: Politieke gedigte versterk bundel. Oggendblad, 8 April 1974
  • Kromhout, Jan: Poetry of protest. Star, 27 Junie 1974

 

Resensies en besprekings 

  • Brink, André P: ’n Klein hooglied van die liefde. Rapport, 19 September 1976
  • De Vries, Abraham: Troupresent van Fanie. Die Burger, 2 September 1976
  • Grobler, Hilda: Van gevestigde digterskap is min te bespeur. Hoofstad, 3 Desember 1976
  • HW: Fanie ’n digter van formaat. Vaderland, 25 November 1976
  • Johl, Johann: Nuwe Olivier-bundel oorskryf en vlak. Volksblad, 29 September 1976
  • Olivier, G: Olivier se derde vra meer self kritiek. Oggendblad, 25 November 1976
  • Van Tonder, Niel: ’n Byna te private daad van die liefde. Beeld, 25 Julie 1977

 

Resensies en besprekings 

  • Blignault, Audrey: Olivier verras met ’n dieper vers. Oosterlig, 22 Februarie 1979
  • Blignault, Audrey: Verruiming in nuwe Olivier-bundel. Die Burger, 8 Februarie 1979
  • Brink, André P: Olivier bevestig sy digterskap. Rapport, 15 Oktober 1978
  • Grobler, Hilda: Skimmellig: Talle gedigte besonder treffend weens felle slotreëls. Hoofstad, 9 November 1978
  • Harvey, Stella: Skimmellig. The Daily News, 24 Augustus 1979
  • Johl, Johann: Hoogtepunt in poësie van Sewentig. Volksblad, 6 Desember 1978
  • Lindenberg, Anita: Fanie Olivier by keerpunt. Oggendblad, 27 Oktober 1978
  • Malan, Charles: Skimmellig meer as net grys herfslig. Transvaler, 20 Januarie 1979
  • Taljaard, PC: Mixed bag of poems. Friend, 7 Maart 1979
  • Van Zyl, Ia: Jeug getemper deur speelse ironie. Suidwester, 29 Januarie 1979

 

Resensies en besprekings 

  • Cloete, TT: Uiteenlopende gedigte. Volksblad, 1 Oktober 1988
  • Ester, Hans: Fanie Olivier tussen bezorgdheid en naïviteit. Zuid-Afrika, September 1989
  • Hambidge, Joan: Bundel voldoen nie aan verwagtinge. Beeld, 26 September 1988
  • Liebenberg, Wilhelm: Afrikaanse verset wat verbeelding laat vlam. Vrye Weekblad, 25 November 1988
  • Lindenberg, Ernst: Goeie bedoelings bring selde goeie poësie. Rapport, 27 November 1988
  • Malan, Lucas: Waarneming teenoor belewenis. De Kat, November 1988
  • Marais, René: ’n Emosionele liberaal se politieke belydenis. Insig, November 1988
  • Pienaar, Hans: Dié vergelyking ’n mistasting van grofste aard [brief]. Beeld, 26 Oktober 1988
  • Pienaar, Hans: Potent discourse between tradition and revolt. Weekly Mail, 28 Mei 1989
  • Van der Lugt, Pieter: Protes-poësie wat selde tot bedaring kom. Die Burger, 22 September 1988

 

2010

9780798151689 (sb)

Kaapstad: Human & Rousseau

Poësie

Geen

Geen

Resensies en besprekings 

 

ou laaie

2020

9781929518341 (sb)

Kaapstad: Naledi

Poësie

Geen

Geen

Resensies en besprekings op die internet

 

Fanie Olivier as samesteller

  • As die son kom oogknip: verse geskryf vir die sonsverduistering, Limpopo, 4 Desember 2002. Pretoria: Protea Boekhuis, 2002 [ISBN 1869190149 (sb)]
    • Fourie, Retha: Bekendes skryf gedigte vir bundel oor son “wat oogknip”. Beeld, 27 November 2002
    • Fourie, Retha: Gedigte oor son se oogknip. Beeld, 27 November 2002
    • Fourie, Retha: Gedigte oor son se “oogknip” bekend gestel. Volksblad, 27 November 2002
    • John, Philip: ’n Bundel wat wyd leesplesier sal gee. Beeld, 20 Januarie 2003
    • Odendaal, Bernard: Met die son gepla. Volksblad, 24 Februarie 2003
  • Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Kaapstad: Human & Rousseau, 1992, 2001, 2006, 2010, 2016 [ISBN 0798129387 (hb); 0798141301 (hb); 0798147040 (hb)]
    • Cilliers, Cecile: Liefde in byna al sy vorme word op Afrikaans besing. Beeld, 28 Desember 1992
    • Cloete, TT: “Mooi liefdesgedigte” sou ’n beter titel gewees het. Rapport, 8 April 2001
    • De Vries, Abraham: Mooiste liefdesgedigte: o, die lekker. Die Burger, 16 Oktober 1986
    • De Vries, Willem: Olivier staan pa vir bundel liefdesgedigte. Volksblad, 7 Desember 2010
    • Grové, AP: Mooi in meer as een sin van die woord. Beeld, 26 Februarie 2001
    • Odendaal, Bernard: Mooiste viering van die liefde net betyds vir Valentynsdag. Volksblad, 12 Februarie 2001
  • Goudaar: gedigte oor Johannesburg. Johannesburg: Perskor, 1986 [ISBN 0628031173 (hb)]
  • Literêre dagboek, 2004. Pretoria: LAPA, 2003 [ISBN 0799331805 (hb)]

Fanie Olivier as vertaler

Fanie Olivier as redakteur

Artikels deur Fanie Olivier

Gedigte deur Fanie Olivier

  • 25 Maart 2010. Die Burger, 10 Mei 2010
  • aansoekvorm. Die Burger, 11 April 2011
  • besoekersboek. 
    • Erasmus, Gerald: ’n Bespreking … Klasgids, Februarie 1996
    • Kannemeyer, JC: Verse vir die vraestel. Beeld, 29 Oktober 1992
    • Studiewenke vir die eksamen. Die Burger, 22 Augustus 2005
  • Demosthenes, die klipkouer, digby Kalamata
  • Van Vuuren, Helize: Matriekhulp. Vrydag, 20 Oktober 1995
  • fees en hemelvaart op stellenbosch
  • Besware teen gedig van FO in Studenteblad. Die Matie, 13 Oktober 1971
  • Dorfling, André: [Brief]. Die Matie, 3 September 1971
  • Student: Gedig maak … groot opslae [brief]. Die Matie, 3 September 1971
  • Von Backström, J: Gedig se gedagte en taal onvanpas [brief]. Die Matie, 6 Augustus 1971
  • keertyd (variante). Die Burger, 20 Desember 2010
  • Last grave at Dimbaza. Beeld, 13 Junie 2016
  • Joubert, Irma: Leketaal. Volksblad, Beeld, 31 Mei 2008
  • Kinghorn, Esmé: Tematiese benadering tot poësie vir tweedetaalleerders. Klasgids, Augustus 2001
  • Kleynhans, A: Versverkenning vir seniors. Klasgids, Oktober 2003
  • Levinson, Sollie: Verskuns graad 1012. Klasgids, Oktober 2002
  • oujaarsaand. Die Matie, 5 Mei 1972
  • Passie. Die Burger, 28 Maart 2016
  • [tussen hakies (oor monnemente gepraat)]. LitNet, 11 Mei 2015 
  • vondeling. Die Burger, 28 Junie 2010
  • vroeë mis
  • Hambidge, Joan: Leketaal. Volksblad, 5 April 2008
  • Winter. Klasgids, Augustus 1987

Artikels oor Fanie Olivier 

Fanie Olivier se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-02-05 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Fanie Olivier (1949–) first appeared on LitNet.

The post Fanie Olivier (1949–) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 322


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>