Quantcast
Channel: ATKV|LitNet-Skrywersalbum - LitNet
Viewing all 321 articles
Browse latest View live

Martin Steyn (1976–)

$
0
0

Gebore en getoë

Martin Steyn is in 1976 in Goodwood in die suidelike voorstede van Kaapstad gebore. Hy is die jongste van twee kinders en sy suster is tien jaar ouer as hy.

Hy word groot in Somerset-Wes, begin daar skoolgaan en matrikuleer in 1994 aan die Hoërskool Hottentots-Holland.

Op sy webwerf skryf Martin dat hy nie van jongs af lief was vir lees nie, maar wat hy baie geniet het, was "om storielyne uit te dink, of dit nou Lego, mannetjies, karretjies, houtgewere of sommer net my verbeelding was. Ook maar goed, want met ’n suster van amper tien jaar ouer en sonder vandag se magdom tegnologie, moes ek gereeld myself vermaak."

Vandat Martin ongeveer 16 jaar oud was, was dit sy droom om stories te skryf, "en nie net stories opmaak nie, die hele skrywerslewe," vertel hy aan Volksblad (18 Augustus 2004). "Die sit en skryf, die navorsing, en die manuskrip-tot-boek-proses saam met die uitgewer en die interaksie met lesers. Ek wil dit graag vir die res van my lewe doen."

Martin vertel verder op sy webwerf dat hy op vyftienjarige leeftyd een van Stephen King se boeke in hulle plaaslike biblioteek uitgeneem het. Hy en vriende het baie van gruwelprente gehou – hulle het onder andere gereeld na die video’s van Nightmare on Elm Street gekyk – en Stephen King was vir hom ’n bekende naam as gevolg van sy rolprente. Hy het The dark half uitgeneem en was dadelik ’n aanhanger. Die volgende paar jaar het hy feitlik net King se boeke gelees.

Hy vertel verder: "Dit was terwyl ek IT gelees het wat die skryfsaadjie in my ontkiem het. My eerste storie was 'Vengeance', 26 handgeskrewe bladsye en ’n pot waarin ek alles van duiwelsaanbidders tot ruimtewesens bymekaar geroer het. Dit was nie besonder wonderlik nie, maar ek was verlief. Ek het nog kortverhale begin skryf. Almal gruwel- of bonatuurlike stories, en party was nie te sleg nie. ’n Droom is so stilweg gebore: ek wou ’n skrywer wees."

Verdere studie en werk

Dit was eers ná skool dat Martin in Afrikaans begin skryf het. "Sommer net. Uit nuuskierigheid. En toe skryf ek so lekker, die storie word my eerste vollengte roman. Dit was ook nie besonder wonderlik nie, maar ek het ontdek hoe lekker dit is om in Afrikaans te skryf – veral dialoog – én dit was ’n bewys dat ek ’n hele boek kan skryf. Dit lyk soos ’n verskriklike hoeveelheid bladsye om vol te maak wanneer jy dit vir die eerste keer aanpak."

Martin het ook sewe waremisdaad-verhale aan Crime Library, ’n CourtTV-webwerf, verkoop. Hulle het onder andere Moses Sitole, die verkragting en poging tot moord op Alison en die Sizzlers-moorde in Seepunt as onderwerpe gehad.

Uit al hierdie belangstellings, soos byvoorbeeld vampiere wat sy "gunsteling-gruwelingkreatuur" was, het ook ander fassinasies ontwikkel. Hy het ’n intense belangstelling in reeksmoordenaars ontwikkel. Hy vertel self verder: "Die groot verskil tussen reeksmoordenaars en vampiere is dat reeksmoordenaars bestaan. Hulle beweeg tussen ons. Hulle lyk soos ons. Mense soos Jeffrey Dahmer en Ted Bundy was vir my geweldig interessant. Ek wou weet hoekom hulle so word. En dis toe dat ek ware-misdaadboeke begin lees het."

Om nog meer in die koppe van hierdie tipe misdadigers te kom, studeer Martin sielkunde en kriminologie aan Unisa om, soos hy aan Books LIVE vertel het, mense en misdaad te verstaan en omdat dit hom interesseer het: "Dit was eerder sielkunde wat my verlei het – ek was in ’n stadium oorgehaal om ’n kliniese sielkundige te word, maar skryf was maar nog altyd my droom." Hy behaal dan ook sy honneursgraad in sielkunde. En toe begin hy sy eerste misdaadroman skryf, maar besef gou dat dit nie so maklik is om gepubliseer te word nie. Hy stuur sy manuskrip aan uitgewers en die keurverslae kom die een na die ander terug met positiewe kommentaar, maar daarna altyd die onvermydelike "maar".

En toe kom hy op ’n dag op die skakel van die South African Writer's College se "Skryf ’n roman"-kursus af. Wat hom opgeval het, is dit feit dat jy saam met elke module ’n gedeelte van jou storie aan jou mentor stuur. En dit is hier waar Wilna Adriaanse in Martin se lewe ingekom het.

Hy begin skryf aan sy roman vir die kursus en onder die titel Donker spoor begin hy die storie vertel van die middeljarige speurder wat die moorde op die tienermeisies moet ondersoek. Wilna begin raad en hulp gee en sy is die een wat Martin se skryfwerk in die regte rigting gestuur het. "Haar ondersteuning hou nie saam met die kursus op nie; sy bly in my manuskrip glo."

Martin neem die woorde van een van die keurders, "Skryf is herskryf; skryf is deurgaan en regmaak", ter harte en die manuskrip is deur ’n hele paar weergawes. Hy pos dit aan LAPA Uitgewers en toe die e-pos van Cecilia Britz in 2013 op sy rekenaar deurkom, word Martin se droom waar. Sy eerste misdaadroman, Donker spoor, word gepubliseer en al die harde werk was die moeite werd, want in September 2014 word dit gekies as LAPA se Lekkerlitboek vir die maand en kom dit tweede ná Chanette Paul se Lekkerlitboek van die jaar in 2014. Dit word ook met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur vir 2015 bekroon.

In Donker spoor leer die leser die twee speurders, Jan "Mags" Magson, middeljarig en al ietwat afgestomp, en die jonger, effe meer entoesiastiese Colin Menck ken. Hulle is verantwoordelik vir die ondersoek na ’n reeks grusame moorde op hoërskoolmeisies in die Durbanville- en Bellville-omgewing.

Op LitNet skryf Jonathan Amid oor Donker spoor en Martin Steyn se gebruik van twee speurders: "Eerder as om slegs een speurfiguur vir die leser aan te bied, gewoonlik in die speurgenre dan ook telkemale ’n man wat met alkoholisme worstel of ’n rokjagter is, is dit hier allermins die geval: Mags en Menck is ’n dinamiese duo wat mekaar uitstekend aanvul: van kameraadskap, ondersteuning en humor tussen die twee is daar oorgenoeg.

"Menck is die jonger inspekteur wat daarvan oortuig is dat sy vrou hom probeer manipuleer met haar keuse van vleisgeregte en dat sy dogter Casey met niks minder as ’n perd tevrede sal wees as troeteldier nie. Dit is, vir alle praktiese doeleindes, die grootste kopsere in sy lewe.

"Mags se lewe sien heeltemal anders daar uit: ná sy vrou se stryd teen kanker, wat hy deur middel van genadedood beëindig het, was sy seun, Hannes, van hom vervreem. Hannes het aan Christien verloof geraak en sedertdien nie ’n woord met sy pa gepraat sedert hulle in die buiteland woon nie. Hannes verwyt sy pa vir die manier waarop sy ma dood is, en een van die roman se vele sterkpunte is die sonderlinge wyse waarop Steyn die kwessie van genadedood opper. Die onderwerp word nie net in ’n paar paragrawe nugter beskou nie, maar word ’n integrale deel van Steyn se besinning oor die waarde van elke mens se lewe. Wat is erger: Om te sterf? Of om agter te bly?

"Mags se verhouding met sy vrou Emma, met besonderhede soos haar teenkanting teen vuurwapens, en die janfiskaal wat sy elke dag kos gegee het, asook voorbeelde van haar deernis vir ander, word met sensitiwiteit weergegee. Dit verleen beslis ’n ekstra dimensie aan Mags se verhaal. Mags is nie ’n Bennie Griessel nie, maar ook nie ’n Thys Krige nie. Hy is alledaags, maar daar is iets mensliks en spesiaals aan dié man met sy diep groen oë. Mags se worsteling met die wanhoop, ellende en trauma wat met die dood gepaard gaan, asook die amperse onmoontlikheid om van geliefdes afskeid te neem en sodoende aan te beweeg, word ’n donker hoogtepunt te midde van die moordondersoeke.

"Wanneer Mags, verpletter, selfmoord oorweeg en die reg op vergifnis vir sy rol in sy vrou se dood bepeins, is jy daar saam met hom. Hy spandeer aande op sy eie met sy dienspistool, en hierdie tonele is intens in hul treffende eenvoud. Enigiemand wat al intense verlies ervaar het, kan met Mags se trauma identifiseer. Daar is verstáán hier. Te midde van ’n ondersoek wat hom tot die uiterste beproef, ontvang Mags berading."

Amid beskryf Donker spoor as ’n "digverweefde tapisserie wat geleidelik vir die leser oopgevou word" en die roman as ’n "debuutwerk wat ondersoek instel, maar nie preek nie. Steyn krap die rofies af, hy dolwe grafte om, maar hy bly nugter in sy aanslag. Daar is niks sensasioneel of oordadig te vinde nie – ’n pluimpie vir die skrywer, wat sy navorsing en kennis oor sy onderwerp laat tel.

"Donker spoor is uit die staanspoor ’n naatlose vermenging van die speurroman/polisieroman en die forensiese ondersoek. Steyn se aanslag is berekend maar nooit kil nie, intelligent maar nie vertonerig nie, verwikkeld sonder om oordadig aan te doen. Sy roman is ook kenmerkend van ’n belangstelling in die psigopatologie van geweld en die afbreek van sosiale norme en morele waardes. Steyn blyk te vra: Wat is een mens se lewe werd in vandag se Suid-Afrika?

"Dit sit beslis nie in elke genrefiksieskrywer se broek om ’n roman te skryf waar die bose en die goeie, die verrotte en die onskuldige, die waarheid en die skyn, met ewewigtigheid en omslagtigheid teenoor mekaar gestel word nie. Net so sou ’n roman wat beide die perverse moord vir plesier en die uiters omstrede genadedood teenoor mekaar stel, ’n bitter sekure hand verg. En dis presies wat Steyn vir die leser bied.

"Dat die goeie eindelik oor die bose uittroon, al is dit slegs tydelik, is beslis nie ’n swakplek of ’n ongeloofwaardige wending in die verhaal nie, ten spyte van die feit dat die genre self die herstel van orde en die vooropstelling van hoop en die skuldige wat aan die pen ry verwelkom, selfs daarop aandring. Daar is min verheerliking van die speurfigure, maar ook nie ’n eindelose gehamer oor die korrupsie van die land en sy polisiediens nie.

"Steyn onderskat nie die leser nie. Hy probeer ook nie om die leser in elke hoofstuk met vergesogte 'red herrings' op ’n dwaalspoor te bring nie. Anders as gewoonlik in die genre – een wat vinnige aksie en warrelwindvertelling beklemtoon – is die hoofstukke baie langer as in die deursnee-misdaadroman.

“Die roman is amper 400 bladsye lank, met slegs 19 hoofstukke. Baie min misdaadskrywers kies hierdie roete, wat dalk net afstuur op ’n stadiger manier van lees op die ou einde: al wil jy weet wat volgende gebeur, wil jy glad nie deur die storie jaag nie. Inteendeel, jy wil elke bladsy, elke paragraaf, elke sin, met die nodige respek vir die skrywer se vernuf en oordeel behandel. Langer hoofstukke gee ook vir die skrywer die kans om die pas net ’n rapsie stadiger te maak waar nodig, om die leser se aandag op sekere elemente, karakters of besonderhede te fokus, en om die hoof- en newekarakters sodoende genoeg kans te gee om asem te skep – om voor ons oomblikke van die alledaagse, krisisoomblikke, of oomblikke van groei en besinning te beleef.

"Steyn se titel is ook op sy kop, en bied verskeie interpretasiemoontlikhede. As leser kan ons die 'spoor' van die titel as tekens, bewyse en roetes karteer – duidelike of sigbare spore, asook die onsigbare spore wat menslike gedrag en aksies agterlaat. Daar kan ook spore van aanvoeling, intuïsie en ervaring wees, spore in die vorm van bewysstukke en leidrade en doodloopstrate, forensies sowel as emosioneel, en in die verwantskappe en verhoudings tussen verskeie karakters."

Amid beskryf die geweld in Donker spoor as "eksplisiet en grusaam" maar deurentyd in goeie smaak. Die roman is ook enduit "gefokus: na aan ’n meesterstuk waar langsame kronkelings en insigte oor die psigopatologie van ons beleërde samelewing skouers skuur met sekure, spanningsvolle, seningrige skrywe wat bewys dat daar meer as een manier is om lewens te neem. Steyn se geslypte styl – realisties maar nie kil of afsydig nie – asook sy oog vir besonderhede, sy ystergreep op die klein sowel as groot oomblikke van die vertelkuns, is verblydend. Hier voer 'showing' oor 'telling’ die botoon.
Steyn het hier iets geskep wat die leser lank sal bybly, ’n teks wat heelwat meer uitdagend as gewone genrefiksie blyk te wees."

Martin vertel aan Books LIVE dat die hele proses om Donker spoor gepubliseer te kry, ’n lang proses was, vanaf die kursus onder leiding van Wilna Adriaanse, die eerste voorleggings en die keurdersverslae, LAPA en Chanette Paul se aanbevelings totdat dit eindelik gepubliseer is. Hy is dus tevrede met die boek, hoewel hy weet dat dit nie perfek is nie.

Books LIVE wou ook weet hoe ’n mens ’n moordenaar skep wat nie net boos is nie: "Dis belangrik om te onthou dat elke mens grys is. Geen mens is heeltemal sleg nie en geen mens is heeltemal goed nie. Ted Bundy het meer as dertig vroue vermoor, waarvan ons weet. Hy was ’n psigopaat, sonder empatie, sonder ’n gewete. Op pad na die elektriese stoel toe, het hy nog probeer om sy slagoffers te gebruik om sy lewe te red. En tog het hy in ’n stadium saam met Ann Rule by ’n krisislyn gewerk. Wat ook al sy redes was om daar betrokke te wees, die feit bly staan, sy het langs hom gesit terwyl hy mense se lewens gered het."

Oor sy skepping van speurders as gewone mense ook, brei Martin as volg uit: "Ek dink die truuk is om mense te skryf en nie karakters nie. Mense maak foute. Mense het nie die luukse om voor ’n rekenaarskerm te sit en te dink, 'Hoe sal ek nou in hierdie situasie optree?' nie. Baiekeer is die situasie nou en jy moet optree, jy moet ’n besluit neem sonder dat jy noodwendig al die gevolge in ag kan neem. En dan is daar nog die emosie van die oomblik ook. Ek is ook baie meer geïnteresseerd in ’n gewone speurder. Met die uitsondering van Patrick Jane (The Mentalist) staan briljante speurkarakters my nie regtig aan nie. Daar is hierdie wonderlike sin in Homicide van David Simon: 'The homicide detective endures.' Dis die soort speurder wat my interesseer. Die ou wat elke dag inkom en sy werk doen. Hy is nie altyd lus nie. Hy sien nie elke leidraad raak nie. Hy breek nie elke verdagte nie. Partykeer loop hy in die verkeerde rigting. Partykeer weet hy nie waarheen om te loop nie. Maar hy hou aan en hy probeer sy bes om geregtigheid te kry vir daardie persoon wat nou ’n nommer op ’n moorddossier is. Terwyl hy weet hy gaan dit nie noodwendig regkry nie.

"Die regte magic gebeur wanneer daardie karakter begin leef. Ek was ’n ruk terug in die Paarl vir navorsing en terwyl ek in die gebou rondkyk, begin Mags en Menck met mekaar praat. So hier staan ek en grinnik soos ’n idioot vir die stemme in my kop. Maar dis wat skryf so intoxicating maak."

In Rapport van 7 September 2014 skryf Johan Smith: "Martin Steyn verras met sy debuut, Donker spoor. En met ’n oorvloed speur- en misdaadverhale wat deesdae in Afrikaans verskyn, is hierdie ’n vars 'bloedspoortjie' in hierdie genre. (...) Hierdie is ’n emosioneel uitmergelende mallemeulerit, en net wanneer jy dink die karretjie is op ’n gelyke vlak, kom die volgende afgrond, maar jy wil nie afklim nie. Ek kan nie wag om te sien wat volgende uit hierdie belowende skrywer se pen gaan verskyn nie."

En in Beeld van 28 Julie 2014 skryf Riaan Grobler dat Martin Steyn ’n nuwe naam in die misdaad-spanningsgenre is wat dopgehou moet word en hoewel die storie vir Grobler ’n bietjie resepmatig is, is dit vir ’n debuut stewig en oorspronklik.

Martin het nie sy ondersteuners lank laat wag op sy volgende naelbyttreffer nie. In 2015 verskyn Skuldig, weer by LAPA. Hy vertel aan Naomi Meyer op LitNet hoekom hy Skuldig geskryf het: "Wel, die idee, die beeld van ’n hand wat daardie sewe letters in bloed teen ’n muur skryf, was onweerstaanbaar! Daar was veral twee (ander) dinge wat my aangetrek het. Die idee het net eendag in my kop ontkiem. Dit was nie soos die reeksmoordenaar in Donker spoor wat ontstaan het omdat ek ’n regte moordenaar se storie gelees het en sy persoonlikheid en sielkunde fassinerend gevind het nie.

"Die moordenaar in Skuldig is ook heeltemal anders as die reeksmoordenaars wat my so interesseer. Hy is ’n huurmoordenaar. Waar reeksmoordenaars vir hulle eie plesier moor, maak hy dood om iemand anders tevrede te stel. Soos reeksmoordenaars voer hy ook ’n ritueel met die slagoffers uit, maar dit kom nie van hom af nie. Hy doen dit namens iemand anders. Die storie vra ook ’n interessante vraag, maar dis iets wat self ontdek moet word."

Skuldig se manuskrip was alreeds geskryf voordat Martin sy eerste manuskrip van Donker spoor aan LAPA voorgelê het, dus was dit nie vir hom moeilik om sy tweede spanningsroman te skryf nie. "Daar was net ’n paar 'oop' gedeeltes waarvoor ek nog navorsing moes doen," vertel hy verder aan Meyer. "Natuurlik wonder mens hoe die tweede boek ontvang sal word, veral omdat ou Mags van Donker spoor nie weer ’n hoofkarakter is nie. En die tweede boek is natuurlik belangrik, want dit moet bewys dat die eerste een nie net ’n vloekskoot was nie. Mens wil ook nie die lesers wat bereid was om ’n kans op jou debuut te waag, teleurstel met die opvolg nie."

Martin het ook glad nie gesukkel om Skuldig te skryf nie: "Skuldig was ’n maklike geboorte. Dit was ’n idee wat baie mooi gevorm na my toe gekom het, titel en alles. Dis nie hoe dit gewoonlik gaan nie. Gewoonlik het ek maar ’n vae idee van wat gaan gebeur en dit raak helderder hoe verder ek skryf. Met Skuldig het ek van die begin af geweet waaroor alles gaan, hoe die storielyn min of meer gaan loop, en dit was ook een van die min stories waar die einde gebeur het soos ek dit aan die begin gesien het. Natuurlik was daar nog steeds die lekker om al die besonderhede in te kleur."

In Rapport van 2 Augustus 2015 is JB Roux vol lof vir Skuldig: "In Skuldig gee Magson nou klas by ’n polisiekollege. Sy plek word deur Colin Menck ingeneem, wat ’n kleiner rol in Donker spoor gespeel het. Menck is ’n gebore speurder wat nie twak vat nie, maar andersins is hy, verfrissend genoeg, ’n doodgewone man met ’n gelukkige, stabiele gesinslewe sonder ’n drankprobleem of diepliggende demone.

"Iemand word in Skuldig in sy huis in die kop geskiet – nadat sy hand gesny en hy gedwing is om 'skuldig' met sy eie bloed teen die muur te skryf. Wat was die motief? Wie is die moordenaar? En as die slagoffer wel skuldig is, waaraan?

"Dit is die kraaines wat Menck en sy sidekick, Winters, moet ontrafel en vinnig ook, want nog moorde word gepleeg. Aktuele kwessies soos gewelddadige seks en ’n gebrekkige regstelsel word betrek.

"Skuldig laat die bladsye onder jou vingers ritsel. Steyn weef ’n web van intrige en net sodra jy vermoed hy het hom in ’n hoek geskryf, gebeur daar iets. Die roman draf teen ’n maklike pas en die dialoog is flink. Die navorsing is omvattend, sonder dat die skrywer onnodige feite in die leser se keel afdwing. Steyn het daarby die vermoë om iets in ’n enkele sin raak op te som. (...)

"Skuldig is so goed geskryf dat die storie sy foute oorleef. Die boek eindig met twee lekker cliffhangers, wat ’n mens reeds na ’n opvolgroman laat uitsien. Steyn blaas in die nek van die puik spanningsromanskrywer Chris Karsten, veral wat die bestendige gehalte van sy romans betref."

Ook Jonathan Amid skryf op LitNet baie vleiend oor Skuldig. Hy meen dit kan ‘n kandidaat wees vir krimi van die jaar 2015. Hy meen dat wat Steyn met Skuldig regkry, "is om die rateltaai dog deernisvolle vertelling, balans tussen eksposisie en innerlike benadering, en raakvatkarakterisering van sy debuut aan te vul met ’n ietwat meer beweeglike benadering tot die skep van spanning: hier worstel speurder en leser saam oor die komplekse antwoorde op yslike morele kwessies wat tot die diepste donkerste dieptes van die menslike psige spreek. Skuldig is, soos Donker spoor, beslis nie vir sensitiewe lesers bedoel nie, en dit is allesbehalwe ontspanningslektuur. Ek is dit wel met Coenraad Walters eens dat die roman uiters leesbaar en bevredigend is. (...)

"Skuldig is met tye ’n genadeloos intense roman wat die leser se morele kompas stuk vir stuk aftakel en doelbewus met meer vrae as antwoorde laat. Steyn maak dit dan ook herhaaldelik so vir ons duidelik: swart en wit as grense of skeidslyne wat menslike gedrag betref, is eenvoudig ’n mite, ’n mite wat vir slagoffers van misdaad uiteindelik bitter min genoegdoening of heling kan bring.

"Met Skuldig het Steyn bewys dat hy vir geen plaaslike skrywer hoef terug te staan nie, en dat die hoë verwagtinge hom geensins in die toekoms van stryk sal bring nie. Dit is dus die tipe krimi wat lesers net soveel soos Deon Meyer se Ikarus (indien nie meer nie) sal boei, maar ook met nuwe oë na ons komplekse samelewing sal laat kyk. Dit is hierdie dimensie wat Skuldig – uitdagend, intelligent, insiggewend – vir my die lees en herlees die moeite werd maak. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ’n uitgewer hierdie wêreldklas skrywer se boeke begin vertaal en die oorsese regte verkoop. Steyn is hier om te bly."

Oor sy karakters in Skuldig verduidelik Martin meer uitvoerig aan Books LIVE: "Ek hou van gewone mense. Menck is nie ’n uitsonderlike speurder nie. Hy weet nie sommer met die intrapslag wie is skuldig en wie nie. Hy het sy ervaring, sy instink en watter leidrade ook al beskikbaar is en hy werk daarmee totdat dit hopelik iewers heen lei. Hy is ’n grys karakter, wat nie altyd die regte besluit neem of die beste opsie kies nie, maar hy is ’n getroue polisieman wat meestal sy bes doen om ’n saak op te los en geregtigheid te probeer kry vir die slagoffer. Soms is dit moeilik, want moordsake is ook nie altyd swart en wit nie.

"Verder is Menck gelukkig getroud, hy is lief vir sy vrou, lief vir sy kinders, al sukkel sy verhouding met sy tienerseun maar ’n bietjie. Hy het nie ernstige persoonlike probleme of demone nie. Nie alle polisiemanne is geskei en sukkel met drank of vroue of geweld of die een of ander sielkundige eksentrisiteit nie. Dit interesseer my om te sien hoe hierdie 'normale' speurders hulle werk doen, hoe hulle hierdie gruwelike moorde ondersoek en dit hanteer.

"Menck kom natuurlik uit Donker spoor, waar hy ou Mags (die hoofkarakter) se partner was. Hy sit nou met ’n nuwe partner, die jonger Derek Winters, en die twee het mekaar nog nie gevind nie. Winters wou graag EGM toe kom om groot moordsake te ondersoek. Hy is in sy middel twintigs, ongetroud, en nog nie baie lank in die Kaapse metropool nie. Winters is eintlik nogal ’n gekompliseerde mens. Daar lê nog interessante tye voor."

Oor hoe hy sy navorsing aanpak, vertel Martin aan Books LIVE dat dit ’n kombinasie van leeswerk en gesprekke met mense behels. Sy eerste stap is om oor die betrokke onderwerp te lees voordat hy met deskundiges op die spesifieke gebied gaan gesels. "Ek probeer om, sover dit moontlik is, ’n realistiese, Suid-Afrikaanse storie te vertel. En daarvoor is ek afhanklik van speurders en forensiese deskundiges wat bereid is om hulle kennis en ondervinding met my te deel.

"Met die Jehovasgetuies het ek al die inligting op hulle webwerf gekry. Hulle het nogal ’n besondere deeglike webwerf – wat selfs in Afrikaans beskikbaar is. Ek het ook met ’n Getuie gaan praat. Ek het vir hom verduidelik presies waarvoor ek die inligting wou hê, juis omdat ’n karakter hulle organisasie uitbuit, en hy wou nie deel wees daarvan nie. Wat my toe laat nadink het. Maar uiteindelik het ek gevoel die Jehovasgetuies word regverdig behandel in die boek – een kry ook die geleentheid om hulle saak te stel.

"Die navorsing is vir my belangrik, maar dis ook net regtig lekker. Mens ontmoet interessante mense, sien interessante plekke, leer interessante dinge. En jy besef ook dat dit maar net gewone mense is wat hierdie werk doen, wat probeer om geregtigheid te kry vir die slagoffers van misdaad."

Martin skryf die oplewing in die gewildheid van spannings- en misdaadlektuur toe aan die soort stories wat in die genre vertel word. "Karakters in lewensgevaar. Stukkende helde. Interessante boosdoeners. Donker dade. Die konfrontasie tussen goed en sleg. Dis stories wat aandag trek en emosie uitlok. Daar gebeur dinge, sigbaar en agter die skerms. Daar is raaisels en wendings. Die situasies is oor die algemeen moontlik, al is dit dalk ’n bietjie oordrewe. En jy kan in ’n veilige plek saam met die karakters deur hierdie gevaarlike gebeure gaan.

"Mense hou daarvan om ’n mate van spanning te ervaar. Dit laat jou lewend voel. Een van die dinge wat gebeur wanneer mens spanning ervaar, is dat endorfien vrygestel word. Die doel is om jou te help om vrees en pyn te oorkom, maar dit veroorsaak ook ’n effens euforiese gevoel. Wanneer jy ’n spannende boek lees of ’n riller kyk, ervaar jy ook spanning as jy jou inleef. Jou liggaam ervaar die simptome van spanning, maar omdat jy weet jy is veilig, is dit nie so erg nie. Maar jy kry nog steeds jou endorfien-'high'." (Books LIVE)

Beyers de Vos het vir Martin tydens Open Book 2015 uitgevra oor die verantwoordelikheid wat die skrywer van misdaadverhale het in die beskrywing van geweldstonele. Martin se antwoord hierop is dat hy glo die skrywer moet geweld beskryf soos wat dit is. "So ook – eintlik veral – die gevolge van die geweld. Regte geweld is nie 'romanties' nie; dis lelik en erg en dit veroorsaak skade. Die fisieke skade word baie keer relatief gou gesond; dis die emosionele skade wat bly en mense verander. As die slagoffer dit nie oorleef nie, het dit ’n dramatiese impak op die mense wat lief is vir daardie persoon. Geweld verander lewens. Selfs iemand soos Alison Botha, met die innerlike krag om letterlik haar ingewande op te tel en pad toe te kruip om te oorleef, wat deur daardie aand se gebeure gewerk het en vandag ander mense motiveer, was nog steeds bang toe sy vroeër vanjaar hoor haar aanvallers kom in aanmerking vir parool.

"Maar daar is ’n streep en dit lê voor sensasie. En hoe meer realisties jy skryf, hoe belangriker is dit dat die geweld funksioneel moet wees. American History X is ’n fliek wat die balans baie goed reggekry het. Daar is ’n toneel waar mense kom om by die hoofkarakter se motor in te breek. Hy hardloop uit met ’n pistool, skiet die een dood en laat die ander een die sypaadjie byt, waarna hy sy kop trap. Dis erg en dis steurend, juis omdat dit realisties en sonder sensasie uitgebeeld word. Dis ’n fliek met ’n baie sterk boodskap en die realistiese geweld en die gevolge daarvan maak die impak groter."

Wat vir Martin as skrywer aangetrek het tot die skryf van misdaad- en speurverhale, was aanvanklik sy fassinasie met reeksmoordenaars. Hy wou agter die redes kom wat hulle tot sulke gewelddadige misdade gedryf het. "Profielsamestelling interesseer my ook baie, en ek wou weet hoe hulle by die afleidings uitkom. Gevolglik het ek baie oor reeksmoordenaars en profielsamestelling gelees, en die sielkunde is fassinerend. Toe ek daaroor begin skryf, en navorsing oor die polisie begin doen, het hierdie deel my net so aangegryp. Ek het ’n diep belangstelling in die psiges van geweldsmisdadigers en die mense wat baklei om geregtigheid vir die slagoffers te kry, in polisiewerk en forensiese ondersoeke.

"Dan is daar ook die plesier om die storie te sit en skryf, om die speurders op die moordtoneel neer te sit en te kyk wat hulle doen, om hulle te volg terwyl hulle die spoor volg, om te sien wat uiteindelik gaan gebeur. Die navorsing, veral wanneer ek met speurders en forensiese deskundiges gaan praat, is ’n uitstekende bonus."

Vir Martin is goeie navorsing een van die elemente wat ’n storie meer geloofwaardig kan maak. As dit reg gebruik word, kan dit jou verhaal ook interessanter maak. Hy verduidelik verder aan De Vos: "Vir die skrywer is daar die potensiaal om byvoorbeeld die binnekant van die lykshuis te sien, of uit te vind hoe ’n misdaadtoneel geprosesseer word by iemand wat hierdie werk doen, en dan kan jy dit aan die leser wys. Daar is baie Amerikaanse en Britse polisiereekse, maar hoe werk hierdie ondersoeke in Suid-Afrika?

"Wat polisieprosedures betref, hang dit af van die skrywer en die soort boek wat hy of sy wil skryf. Vir my is dit baie belangrik, want ek skryf police procedurals. Ek skryf uit die polisie se oogpunt en ek mik vir soveel outentisiteit as moontlik. Aan die een kant maak dit die gevoel van realisme hoër, maar aan die ander kant interesseer dit my net geweldig baie. Ek wil weet hoe word al hierdie goed gedoen, hoe verwyder ’n patoloog ’n koeël uit ’n slagoffer se brein, hoe word daardie koeël aan ’n spesifieke vuurwapen gekoppel.

"Die probleem is natuurlik mens raak soms so meegesleur met al die wonderlike, interessante dinge wat jy leer en uitvind en sien dat jy álles in jou storie wil gebruik. Dis veral vir my ’n probleem (want ek sal dit alles wil lees!), maar mens moet onthou jy skryf ’n storieboek. Soos Wilna Adriaanse vir my gesê het, die navorsing moet nooit sigbaar wees nie. Maar dis nie altyd maklik nie."

De Vos wou ook by Martin weet hoe hy seker maak dat sy werk oorspronklik bly, veral in hierdie tyd waarin die misdaadgenre so gewild is. Martin se reaksie is dat sy temas dié is waarin hy belangstel en waaroor hy opgewonde kan raak: "Ek volg die karakters en die storie en kyk wat gebeur. Dis vir my ’n baie organiese proses, wat hoofsaaklik iewers uit my onderbewussyn kom. Dit word ook deur navorsing beïnvloed, wat regtig in die omstandighede van die storie sal gebeur, wat in Suid-Afrika moontlik is. Om te probeer om vars en oorspronklik te wees, sal die hele proses onnatuurlik maak, soos plastiek. Ek vertel net die storie so goed ek kan – en hoop vir die beste.

"Wat wel in my guns tel, is dat ek met ’n vreemde paadjie by misdaadfiksie uitgekom het. My agtergrond is gruwelverhale, veral dié van Stephen King. My invloede toe my skryfstyl begin vorm het, was ook nie juis wat mens 'tradisioneel' sal noem nie – flieks soos Pulp fiction en Heat het my byvoorbeeld laat besef hoe vermaaklik en aangrypend goeie dialoog kan wees. Ek het sielkunde en kriminologie op universiteit studeer. En tot onlangs toe het ek hoofsaaklik ware misdaad gelees eerder as misdaadfiksie."

Publikasies:

Publikasie

Donker spoor

Publikasiedatum

2014

ISBN

9870799369656 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Speurroman

Pryse toegeken

  • LAPA se Lekkerlitboek vir September 2014
  • ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur 2015

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skuldig

Publikasiedatum

2015

ISBN

9870799373608 (sb)

Uitgewers

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Speurroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Martin Steyn beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Martin Steyn (1976–) appeared first on LitNet.


Jochem van Bruggen (1881–1957)

$
0
0

Gebore en getoë

Jochem van Bruggen is op 29 September 1881 in die dorpie Goede, Zeeland in Nederland gebore as die oudste van sewe kinders van Jan van Bruggen en sy vrou. JRL (Kleinjan) van Bruggen, ook later ’n skrywer, was die jongste.

In Die Huisgenoot van 1 Desember 1933 het Kleinjan vertel dat sy ma altyd gesê het dat Jochem amper nie bly lewe het met sy geboorte nie. "Vanuit ’n koue bad beurtelings in ’n warm bad gedompel, met ’n harde borsel geskrop om die bloed te laat sirkuleer, het die jong wêreldburgertjie vir die eerste keer letterlik sy eerste lewensnik gegee."

As jong seun het hy aan een of ander verlamming gely, het Kleinjan vertel en dit het sy "hele lyf styf en houterig gemaak en het ook sy spraakorgane aangetas." Vroeg is sy letterkundige aanleg reeds onder sy maters getoon. "Hy het toneelstukkies geskryf wat ewe plegtig opgevoer is. Hy het van sy prilste jeug af ’n wonderlike ontsag vir ’n predikant gehad. Ons huis was dan ook dikwels die brandpunt van kerklike geskille, waarvan ek self die name van ADW, ds Godefroi, dr Muller altyd sal onthou. Die kansel en die teater was vir Jochem in die jong Johannesburg ’n bron van inspirasie vir sy eerste toneelstukkie, waarin ’n dominee en koster hul rolle gekry het."

Hy en sy ouers het op 1 Januarie 1892 in Tafelbaai geland. In My jeugland: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers (Afrikaanse Persboekhandel, 1953) het Jochem van Bruggen vertel dat sy pa twee jaar voor die res van die gesin na Suid-Afrika gekom het. In Johannesburg het hy ’n Hollandse kerkgebou gehuur waarin hulle as gesin sou bly en die spasie wat oor was, in te rig vir ’n skoolgebou. Hy het ook private skoollesse geneem en vir ’n paar maande Hollands aan ’n Engelse skool gegee.

"Dit het hom twee jaar gekos om skoolplek en woonplek agtermekaar te kry. Alles was Engels en die Afrikaanse bevolking was toe nogal Engelsgesind. Hollandse skole was daar ongewens. Pa s'n was die eerste. (...)

"Dit was die treffendste gebeurtenis in my lewe toe ons in Nederland die berig van vader kry: kom! Begin Desember 1892 het ons vertrek; moeder en vyf kinders, waarvan ek die oudste was: elf jaar. Vir my was dit ’n bestiering van Hoërhand. In die lae lande van die koue noorde sou ek nooit ’n skrywer geword het nie. Die hoogste grondverheffing wat ek geken het, was die duine wat die Noordsee van Nederland af weggehou het. Suid-Afrika het berge en die heilsaamste son! (...)

"Op Nuwejaarsdag het ons in Kaapstad aangekom. Ek het vader op die kaai gesien en was verheug; maar: Tafelberg en sy omgewing was wonderlik, oorweldigend skoon. Ek het my vader nie hartlik, na sy sin, gegroet nie. Die werklikheid om my heen was ’n stremming op my gevoel van liefde wat tog diep en waar was."

Hy het sy skoolgaanjare by sy vader in Johannesburg begin tot 1895 en is daarna na die Staatsgimnasium in Pretoria, waar hy gebly het tot 1899 toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het.

Aan die Staatsgimnasium was Nico Hofmeyr (later skrywer van onder andere Fanie en Op die walle van die Vaal) dosent in geskiedenis en Nederlands, en hy het ’n beduidende invloed uitgeoefen op die jong Jochem van Bruggen. Dit was geskiedenis en letterkunde wat die tema van ’n "epos" oor die Groot Trek deur Van Bruggen geïnspireer het, het Kleinjan in Die Huisgenoot verder vertel. "Later het ek die manuskrip hiervan dikwels op die plaas Steenkoppies ter insage gehad. Dit het so pragtig gerol en gerym. Dit was so heerlik sentimenteel, so honderdpersent patrioties! Om met hierdie werkie af te handel, het Jochem dit later in Afrikaans omgewerk en dit ter publikasie aangebied. Die weiering van die manuskrip het vir goed ’n end aan Jochem se aspirasies as digter gemaak."

Dit was ook terwyl hy aan die Staatsgimnasium gestudeer het dat hy sy boesemvriend Gert Oosthuyzen ontmoet het. Oosthuyzen was later jare in die onderwys bekend as Oom Gert.

Verdere studie en werk

Voordat Jochem van Bruggen op kommando is, het hy as konstabel in Johannesburg patrollie geloop totdat hy opgeroep is. Om konstabel en krygsman te wees, was een van sy twee ambisies van sy jongdae, het hy in Die Brandwag van 30 November 1942 geskryf. Beide hierdie twee ambisies het hy verwesenlik met sy dae as konstabel en as soldaat op kommando tydens die beginjare van die Anglo-Boereoorlog.

Met die uitbreek van die oorlog het Jochem van Bruggen dadelik by die kommando's aangesluit. Hy is egter na ses maande, met die besetting van Johannesburg, uit die kommando's. Daarna was hy alleen, met sy vader wat nog op kommando was en sy moeder en ander broers en susters Holland toe. In Johannesburg het hy in ’n agentskantoortjie gewerk en later in ’n wassery.

Hy het ook weer ’n poging aangewend om te begin skryf en sy eerste verhaal, "Een ouderloos tydperk", kom uit daardie jare, maar, het Kleinjan vertel, "’n Ouerige vriend van die familie – Hollander en prokureur – het hom aangeraai om die geknoei te laat staan. 'Daar zit geen geld in!'"

Ná die Vrede van Vereeniging is hy na die plaas Steenkoppies naby Magaliesburg. En dit was hier waar hy weer die bande met sy ou vriend, Gert Oosthuyzen, hervat het, hoewel Gert nie meer die man van ouds was nie, aangesien hy deur die long geskiet is.

Gert se pa, ou oom Gert, was ’n baie kwaai man, maar sy vrou, Lenie, was ’n baie liewe mens, wat ten spyte van die 20 kinders wat sy in die lewe gebring het, nog kans gesien het om vroedvrou vir ander vroue te speel. En dit was met een van hulle dogters, Maria Petronella, dat Jochem van Bruggen wou trou.

Maar om te trou moes hy ’n inkomste hê, het Kleinjan verder vertel: "Hy het CNO-onderwyser geword. Hoe goed onthou ek nog daardie tyd! In ’n tipiese ou geboutjie, voordat sinkplate in die wêreld gekom het, het Jochem ons laat sing. Sing! – Daar was toe g'n eksamenrooster-paaiboelie nie. Daar was toe g'n horrelpoot-leerplan nie. Maar ek weet ons het gesing! Dit was net ongelukkig dat Jochem nie alleen net Psalms laat sing het nie. Daarom is hy plegtig deur die ouers afgedank. Dis die einde van Jochem as onderwyser."

Jochem van Bruggen is veral vir sy voorliefde vir sang deur sy leerlinge onthou.

Hy en Marie is in 1905 getroud. Hulle het ses kinders gehad – drie seuns en drie dogters.

Hy het daar vir 18 maande onderwys gegee en het toe begin boer. Die Magaliesberg se wêreld was tabakwêreld en sonder dat hulle iets geweet het van die bedryf, het Jochem van Bruggen en sy groot vriend, Gert Oosthyuzen, ’n tabakbesigheid begin. Soos Kleinjan in Die Huisgenoot (1 Desember 1933) geskryf het, het die tabak ingekom. "Dinge het mooi gelyk. Oom Gert is toe met ’n 'motorbaiesukkel' (dit was ’n Triumph) uit om handelsreisiger te speel. Jochem het saam met sy vrou, Marie, agtergebly. Omdat daar geen kontant was nie, het hulle ’n winkel ingerig en allerlei ware in ruil vir tabak verkoop. (...)" Jochem en Gert het so te sê bankrot gespeel, "deur die verneukslag van ’n Jood". (Inligtingstuk by Naln)

In 1914 het Van Bruggen in alle erns begin skryf. Hy het begin deelneem vir die prys wat generaal JBM Hertzog uitgeloof het. Sy eerste skets was "Die praatmesien" wat hy ingeskryf het vir die prysvraag wat die Brandwag uitgeloof het en daar het hy tweede gekom na Leon Maré met sy "Die kommandering van Japie Moolman".

"Die praatmesien" is in die Brandwag van 10 Desember 1914 geplaas en die kommissie van beoordelaars (WMR Malherbe en Jan Celliers) se kommentaar is saam met die verhaal geplaas: "Dis ’n strekking-stuk, dis waar, maar strekking-stukke mag daar gerus wees, als hulle maar goed geskrijwe is en nie te banaal redeneerderig of prekerig word nie. En hierdie stuk is goed geskrijwe, die skrijwer laat die feite praat, en sijn voorstelling is ooral aanskouwelik en waar. Ons sien mense voor ons lewe en nie gemaakte poppe nie. Hij oordrijf nie. Sijn verhaal is ’n goeie geheel. Dit het min geskeel of hij het die eerste prijs gehaal." (Die Huisgenoot, 15 Julie 1957)

Maar steeds het Van Bruggen geldelik gesukkel. Hy en die boerdery het nie met mekaar reggekom nie, het Kleinjan geskryf: "Die praktiese bekommernisse was te klein vir sy groot gees. Hy het al sy werke geskrywe onder baie moeilike omstandighede. Een voorbeeld sal genoeg wees. Hy was onder kontrak met die Nasionale Pers om ’n werkie vir die reeks Almal se boeke te skrywe. Die ou opstal (op die plaas) moes afgebreek word om op sy beurt plek te maak vir ’n nuwe. Jochem en sy gesin van vier kinders moes toe tydelik na die waenhuis verkas. Daar is Die burgemeester van Slaplaagte geskep. In een maand. En Nasionale Pers was tevrede. Maar hy het nog altyd moeilikhede om ’n bestaan deur sy boeke te maak. Die wens van sy siel is dat ons as Afrikaners wat so baie praat oor kultuur hom in staat sal stel om te glo dat dit ons werklik erns is. Afgesien van voorgeskrewe werke, word sy boeke min gelees."

Só het hy gaan toer met sy toneelstuk Levina, al het hy niks geweet van hoe ’n toneelstuk aanmekaargesit moet word nie. "Hy weet net hy moet lewe en die lewe uitbeeld. Sy vrou is altyd by hom. Sy kinders ook. Dié van ons wat nog belangstel in ons kultuur, sal met ’n welkomsglimlag so ’n onpretensieuse program as wat Levina se spelers aandui, begroet, want spel, spelers en skrywer is uit die volk gebore," het Kleinjan geskryf.

Behalwe sy ambisies om krygsman en konstabel te wees, het Jochem van Bruggen in Die Brandwag van 30 November 1942 verder vertel, "het in my gees, onder die invloed van Meester, die drang ontstaan om myself uit te lewe in digterlike ontboeseminge na die patroon van rollende versreëls, toe in die mode, wat vir my verheffend en inspirerend was. Die inhoud het ek nie eintlik bewonder nie, dit was bysaak: rym en ritme was vir my soos die trippelpasgang van ’n uitsoek-ryperd. In prosa kan ’n mens alles en dieselfde baie beter en duideliker sê, sodat dit nugter en verstaanbaar gelees kan word. Dit was die wielende woorderykdom wat rondomtalie met my harsings maak, soos ’n straatdeuntjie wat jy nie kan vergeet nie wat my vasgevang had."

Sy ses maande op kommando het egter sy digterlike muse negatief beïnvloed, maar nadat hy die kommando's verlaat het en alleen gesit het, het sy "digvermoë weer wakker geword". Soms het hy effe depressief geword, maar hy het nooit ophou glo in die saak van die Boererepublieke nie en het ’n gedig geskryf waarvan die eerste twee verse hier gegee word:

'k Zag een veld, waar welig groeiend,
't Jonge gras stond dicht opeen.
Pas ontloken, teere bloempjes,
Keken schuw door 't groenbed heen.

Maar de Winter is gekomen
En zijn arm vermag zoveel,
Hy misgunt u al dat schoone,
Groen maak plaats voor saploos geel.
(Die Brandwag, 30 November 1942)

Toe hy egter van sy gedigte vir sy ouers se beste vriend voorlees, het hy daaroor gelag, en hoewel Jochem verontwaardig was en vies vir die vriend, het hy tog die werk wat hy vir Van Bruggen aangebied het, aanvaar.

Jochem van Bruggen se eerste roman was Teleurgestel, wat in 1916 uitgegee is en waarvoor hy in 1917 die Hertzogprys verower het. In sy artikel (Die Huisgenoot, 2 Oktober 1942) het sy broer JRL (Kleinjan) van Bruggen geskryf dat Jochem ’n "volbloed romantikus en idealis" was toe hy begin skryf het en dat sy kennis van mense en die wêreld nie baie breed was nie. "Daarom is sy karakters in Teleurgestel, Gysbert en Maria, vae en geïdealiseerde romantipes. Gysbert het geen gestalte in ons gees gekry nie, terwyl Maria, na haar lang siekbed in die konsentrasiekampe, uit die hospitaal uitstap 'met twee grote, sielvertolkende oë, verhewe boeiend'."

Teleurgestel handel oor die Anglo-Boereoorlog met Maria in die hoofrol en die twee manne wat om haar hand stry, Dirk en Gysbert. Estelle le Roux het in Trans-Afrika (September 1945) geskryf dat sy Gys verkies het, maar dat die skrywer vir Dirk, wat die "skurk van die verhaal" is, fyn geskilder het. Maria en die "verminkte" Gys is na hulle troue baie hoopvol vir die toekoms, maar "die skrywer gee nog nie die sielkundige ontwikkeling wat hy later sou gee nie. Die figure word meestal verklaar en nie geteken nie. Die leser het feitlik vooraf geweet dat Maria nie met die swartskaap van die verhaal sou trou nie. Sy is die Boeredogter wat alles vir haar land sal opoffer. Maar reeds word Liepie Stols, die eenvoudige verarmde mens, fyn uitgebeeld, ’n eienskap van die skrywer se kuns wat later so baie werd word. Hoewel die roman beter inmekaar kon gesit het, word die twee temas in die boek reeds baie suksesvol uitgebeeld: die oorlog en die liefdesgeskiedenis. Omdat Van Bruggen hier nog in ’n sekere mate by die resep van die historiese roman bly, kan hy nie oortuigend motiveer waarom die skurk ook om die hand van die heldin meeding nie."

DB Bosman het in Die Huisgenoot van September 1918 geskryf dat al is daar foute in Teleurgestel, is dit, met die uitsondering van Vergeet nie van DF Malherbe, die beste roman in Afrikaans. Vir Bosman is daar nog ernstige gebreke, maar dit hou goeie belofte vir die toekoms in.

In 1919 het Bywoners verskyn en dit kan eerder gesien word as ’n langerige kortverhaal of ’n novelle. Abel Coetzee het in Die Brandwag van 5 Oktober 1956 geskryf dat die hoofkarakter in Bywoners, Neelsie Sitman, vir altyd ’n plek in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde ingeneem het. Hy was ’n meeldiaken en ’n sukkelaar wat sy bedelslopie oral saam met hom gedra het, aangesien hy heelwat kinders gehad het. Sy vrou, Bettie, is net so versukkeld soos hy, maar dit was Neelsie Sitman wat die "eintlike openbaring van Van Bruggen se skeppingsvermoë" was en dit was waar die waarde van Bywoners geleë is.

Jochem van Bruggen se volgende roman was Die burgemeester van Slaplaagte, wat ’n novelle is, en volgens Estelle le Roux is hierdie novelle die oorgang van Van Bruggen se romantiek na sy realisme. "Die stof is uit die eenvoudige plattelandse lewe, maar hoe gou boei dit nie die aandag nie: Verlep deur ’n broeiwarme somerson, lê Slaplaagte dooierig in die lang-gerekte holte van ’n breërug-buiteveld. Dooierig, want ’n taai droogte het ’n gees van moedeloosheid laat sak oor die ganse omgewing. Die boerdery lê lewensloos, en so te sê nêrens is arbeid te bespeur nie; selfs die vee wei traag en teësinnig in die harde vaalgras.

In Slaplaagte woon oom Lood en tant Levina en hulle mooi en slim dogter, Levina. Oom Lood is dan die karakter wat deur sy kennisse ietwat ironies "Die burgemeester van Slaplaagte" genoem word, het L van Niekerk in Die Huisgenoot (Mei 1923) geskryf. "Oom Lood pas op Slaplaagte (...) maar hierdie omgewing pas nie vir sy mooi dogter Levina nie, ’n skrander meisie, vol lewenslus en van ’n werksame aard, wat genoeg aanleg besit om deur ontwikkeling ’n sieraad in die maatskappy te word, maar wat deur die idees van Slaplaagte gedoem word tot ’n lewe van doelloosheid en verveling."

Dan kom haar niggie uit Johannesburg kuier en met al die stories oor die lewe in Johannesburg kan niks Levina weghou van die groot stad nie. Sy gaan soontoe om daar ’n "ryker bestaan te vind, maar in die goudstad gaan sy, onbedorwe maar ook onervare boeredogter, haar ongeluk tegemoet. Oom Lood en tant Levina staan magteloos teenoor die geval: hulle kennis, hulle insig skiet te kort, en met liefde alleen kan hulle Levina nie red nie – hulle kan alleen die swaar dra."

Vir Van Niekerk skilder Van Bruggen "nie met ’n growwe kwas of met skerp kleure nie en vir party lesers sal sy portrette nie sprekend genoeg wees nie. Trouens, die verhaal gee geen geleentheid vir besonder diepgaande tekening nie, want dit is weinig meer as ’n skets. Maar wie oplettend is, merk dat die skrywer so onder die verhaal deur ’n oog het vir al die kleinighede wat same as kompleks ’n karakter uitmaak, en vir wisselende stemminge, wat kleur en geur aan die lewe gee. (...) Die burgemeester van Slaplaagte is ’n aanwins vir ons: Van Bruggen toon dat hy nie alleen die gawe van opmerking en uitbeelding besit nie, maar ook ’n hart vir ons probleme en sorge, en met sy verhaal gee hy ons ’n stukkie kuns sowel as stof tot nadenke."

Dan, in 1924, kom Ampie, die karakter waarmee Jochem van Bruggen hom in die Afrikaanse letterkunde ingeskryf het. Die eerste deel van die Ampie-trilogie, Ampie, die natuurkind, beeld die kinderjare van hierdie "krotbewonertjie" uit, hoe sy liefde vir Annekie begin ontwikkel en sy intense toegeneentheid vir die donkie, ou Jakob.

Die tweede deel, Ampie, die meisiekind (1928) vat Ampie se verhaal na sy verlowing, sy bywoning van die katkisasie, sy troue en die geboorte van hulle eerste kind, en eers in 1942 word die derde deel, Ampie die kind gepubliseer, waar Ampie sy weg vind na die delwerye, maar gelukkig is sy liefde vir die plaas en dan ook vir sy kind wat so skielik sterf, die faktore wat sorg dat hy nie ten gronde gaan op die delwerye nie, maar dat daar ’n gunstige kentering in sy lewe was.

Volgens Estelle le Roux het Van Bruggen nie onmiddellik grootheid van sy kuns bereik nie. "Dit het jare geverg om die karakter Ampie te skep."

Oor die ontstaan van Ampie het Van Bruggen in Die Huisgenoot van 27 November geskryf dat dit losweg gegrond is op die "ellendigste huisgesin" wat hy geken het en wat kort na die Eerste Wêreldoorlog naby hulle plaas gewoon het. Daar was ook ’n seun wat baie lief vir ’n donkie was en by Van Bruggen op die plaas gewerk het. Hy is ook later uit die Van Bruggens se huis getroud.

Van Bruggen het verder vertel: "Ek glo egter nie dat ek ooit met die roman sou begin het as die ou Brandwag nie bestaan het nie. In die laaste opstelwedstryd van die oorlede tydskrif het ek meegeding en met Ampie die prys verower. Dit was ’n kortverhaal, later die eerste hoofstuk van die roman. Toe was die seun in my diens feitlik die motief. Destyds het ek geen gedagte gekoester om verder as dit te gaan nie.

"Na die opdoek van Die Brandwag het die Nuwejaarsnommers van Die Burger verskyn. My bydraes vir twee nommers was weer kortverhale oor Ampie. Albei het later hoofstukke van die boek geword. Ek het na die tweede nommer pas begin dink aan die moontlikheid van die roman en daaraan begin werk. Teen die end van 1922 was die boek gereed vir die pers. Die natuurkind was afgerond en klaar, dog ek het gevoel dat dit nie klaar met Ampie was nie. Daar moes nog ’n deel bykom, waar hy as man en vader die verantwoordelikheid van die lewe, na sy aard en opvatting, sou dra."

Van Bruggen het toe self vir ses maande op die delwerye gaan werk en het saans in sy eenvoudige blyplek by ’n kers geskryf oor Ampie en Annekie, maar nog niks oor die delwerye nie. Die meisiekind was al oor halfpad klaar toe hy terug op die plaas was en daar het hy beter afstand gekry en kon hy die tweede deel van die trilogie klaarmaak, hoewel dit nie sy oorspronklike idee was dat dit ’n afgeronde boek sou wees nie.

"En nou die derde deel. Dadelik het ek besluit dat die subtitel Die kind sou wees. Maar hoe om aan te gaan? Hoe om sover te kom dat Ampie uit die rustigheid van sy pasgetroude lewe na die onrus van die diamantwêreld oorgeplaas word? Dit het my baie hoofbrekens besorg, en weer het ek, soos dit die geval was met die eerste deel, los hoofstukke geskrywe wat geen samehang gehad het nie. Daar was geen bepaalde koers nie, hoewel die stof in my gedagtes rondgemaal en ek die end reeds klaar gehad het voordat ek behoorlik op stryk geraak het. Intussen het daar ook soveel gebeur met my.

"Dit was in die dae van die depressie. Die skrywery het my amper geen pennie in die sak gebring nie. Ek moes iets anders doen om te kan bestaan. Ek het met my toneelstukke gaan toer. Dit was finansieel ook ’n fiasko. Terug op die plaas was ek sat van kultuur, boeke en Ampie. My pen het ek skaars gebruik om die allernodigste korrespondensie te doen. Ek het my by ander werk bepaal om my gedagtes af te lei van sorge en bekommernis. Al die tyd het die derde deel onaangeroer bly lê totdat die tye beter geword het en ek gaandeweg weer lus gekry het om te skrywe.

"Toe het ek Die noodlot en Met Ampie deur die depressie klaargemaak en die groot werk Oupa opgeneem. Toe die eerste deel van laasgenoemde klaar was, het ek my in staat gevoel om nou met ’n vaste plan ook Die kind te voltooi. Die trekpale was daar en die eindbaken reeds gevestig. Betreklik maklik het die draadpale in die grond gekom in ’n reguit lyn, want nadat ek die hoofstuk 'Nuwe rigtings' uitgewerk had, was die werk vir my duidelik. Ek voel dankbaar dat my lewenswerk klaargekom het voor my dood."

MSB Kritzinger het in Die Boervrou (Maart 1926) geskryf dat die eerste Ampie regtig "’n hoekie van die natuur gesien deur ’n temperament" is en dat die skrywer dit uitgebeeld het soos hy dit gesien het. "Die verskyning van Ampie is werklik ’n gebeurtenis van belang in die Afrikaanse literatuurwêreld – hy het die baan met die eerste roman geopen. En daarby het die kunstenaar een van ons groot probleme, die armblanke-kwessie direk onder ons aandag gebring."

Ook vir FEJ Malherbe (Die Huisgenoot, 13 Februarie 1925) was Ampie ’n vreugde, "omdat sy skepper diep reeds tas in die wese van ons armblankedom – om die analities-sintetiese skouing en herskepping van die lewe. Besit en geniet saam met my die beste roman wat ons het in Afrikaans."

Ampie die natuurkind en Ampie die meisiekind het beide die Hertzogprys aan Jochem van Bruggen besorg, onderskeidelik in 1925 en in 1927.

In 1927 het daar ’n herrie en polemiek in die Kerkbode losgebars oor Ampie wat vir hoërskole voorgeskryf is. Diegene teen hierdie saak het dit veral gehad oor die taalgebruik in die boek en dit name genoem soos "liederlike taal", "nare woorde" en "onesteties, vuil, gemeen", terwyl dié wat ten gunste van Ampie was, dit gesien het as ’n werk met "nuttige kennis en skone kuns, en as ’n mens met die regte gees en die regte beskouing, ’n algemeen menslike lewensbeskouing die boek wil lees, sal jy jouself oortuig dat daar geen gemene streek uit Ampie deur enige kind nagevolg sal word nie. Die skrywer het sorg gedra om in die gemene, nare, eenvoudige, stof met die vuile, liederlike taal 'n bekoring te lê vir die teenoorgestelde: die goeie, skone, reine en ware, daarom is dit verkeerd om te praat van 'onesteties, gemeen, vuil'" (WA Cronje, brief aan Volksblad, 2 April 1927).

In die 1930's het Van Bruggen self Ampie tot ’n toneelstuk verwerk en as gevolg van geldelike probleme daarmee deur die platteland gaan toer. Oor hierdie ervaring het hy in Met Ampie deur die depressie geskryf wat in 1939 deur Voortrekkerpers uitgegee is. Hieroor het PC Schoonees in Die Huisgenoot (17 November 1939) geskryf dat Van Bruggen se verslag van sy toneelreis baie onderhoudend is, uit ’n kultuur-historiese oogpunt gesien.

Die Ampie-trilogie is deur die jare ook vir ander mediums verwerk. In 1981, met die 100ste herdenking van Jochem van Bruggen se geboortedag, het die Afrikaanse radiodiens die trilogie opgevoer. Die verwerking is deur Suzanne van Wijk gedoen en sy was ook die regisseur.

In 1932 is die eerste toneelopvoering van Ampie op die planke gebring met Alwyn Viljoen as Ampie en die verwerking is deur André Huguenet, wat self ook die rol van Ampie vertolk het, gedoen. In 1970 het Truk met Ampie deur die destydse Transvaalse platteland getoer met regie deur Francois Swart en Marius Weyers as Ampie en Katinka Heyns as Annekie. Ampie het in 1972 weer die tonge aan die praat gehad toe Truk ’n "baster-musical" gebaseer op die derde deel van die trilogie onder die titel Ampie oppie diekens opgevoer het. Francois Swart was verantwoordelik vir die herskryf en regie. Die kommentaar op hierdie verwerking van Ampie was nie altyd gunstig nie en van Jochem van Bruggen se familie was ook effe omgekrap.

In 1982 het Schalk Jacobsz ’n nuwe verwerking gedoen vir die destydse Sukovs met Pieter Brand as Ampie. Hierdie opvoering is ook op video opgeneem.

In 1965 is die drie dele van Ampie in een band deur Afrikaanse Persboekhandel uitgegee onder die titel Die Ampie-trilogie.

Jochem van Bruggen het sy vierde Hertzogprys in 1933 verower met Die Sprinkaanbeampte van Sluis. Die hoofkarakter in hierdie roman is Lambertus Bredenhand en hy is eie familie van baie van die karakters in Van Bruggen se ander boeke – Liepie Stols, Sitman, die meeldiaken, oom Lood, die burgemeester van Slaplaagte, oom Tys, Annekie se pa en Org Basson, die ouderling van Sukkelaar. PC Schoonees het in Die Nuwe Brandwag (November 1933) geskryf: "Hierdie ses broers van die Lamsak-familie ly almal in meerder of minder mate aan die ongeneeslike kwaal van papbroekigheid."

Lambertus het uit alles geraak en verdien af en toe ’n paar pennies deur los werkies te verrig, maar hy droom nog altyd van die één goeie werk wat hy gaan kry en wat hom weer geldelik onafhanklik sal maak. Intussen ly sy drie kinders honger en "maak hy aanspraak op die eerbiedige hulde van al sy broers en susters, asook dié van sy bejaarde moeder".

"So lei Lambertus ’n dubbelbestaan," het Schoonees voortgegaan. "In sy verbeeldingswêreld is hy nog steeds die onafhanklike 'ouboet' wat met salwende praatjies sy meerderheid handhaaf. Maar telkens word hy wakker geskud deur die krenkende realiteit van sy sukkelbestaan. Hierdie gedurige botsing tussen droom en daad het Van Bruggen fyn-ironies veraanskouelik."

Dan word Lambertus aangestel as sprinkaanbeampte en veroorsaak dit ’n hele ommekeer in sy huishouding met genoeg kos en die pa wat op ’n vosperd ry. Maar dan kom daar ’n sprinkaanplaag en moet Lammie bontstaan. In hierdie besige tyd kry hy ook tyding dat sy seun Kosie op sterwe lê en trek hy laer om sy kinders.

Schoonees het sy resensie afgesluit met: "Pragtig het Van Bruggen die diepere menslikheid van hierdie eenvoudige siel aan ons geopenbaar ook in die sterftoneel waar die vader in die gebed worstel om die behoud van sy seun. (...) Dit mag waar wees dat Van Bruggen in hierdie verhaal geen nuwe rigting inslaan nie, dat hy eenvoudig voortborduur op bekende motiewe, maar wat innigheid van aanvoeling en forsheid van beelding betref, verdien sy jongste werk al die lof wat hy vroeër met Ampie behaal het."

In 1988 word Die sprinkaanbeampte van Sluis deur Van Schaik heruitgegee en antwoord Cecile Cilliers in haar resensie (Beeld, 30 Januarie 1989) die vraag of die beskrywings van sprinkaanplae, die depressie en die armblanke nog in die moderne tyd geldig is. "Ek dink van ja, en dan wel om drie redes: die lewende innerlike lewe van Van Bruggen se karakters, sy vermoë tot deernisvolle humor en sy taalgebruik. Die taalgebruik is weliswaar dié van ’n ander tyd, maar juis daarom verrykend. Afrikaans bly aan die verskraal onder die druk van Engels en veral Amerikaans. Hier lê ’n ander taalwêreld braak. (...) Die lees van Van Bruggen se prosa (...) open nuwe (ou) taal-vergesigte.

"Van Bruggen het die vermoë om met sy karakters te spot sonder om hulle bespotlik te maak. Hulle behou die leser se simpatie, selfs die opgeblase Lambertus Bredenhand. (...) Die groot krag van die novelle lê in die karakters. Elkeen oortuig met ’n eie innerlike lewe. Dit is nie ’n lang novelle nie, maar dit vorm ’n fyn geheel. In sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis noem Dekker dit ’n suiwer roman. Selfs 55 jaar ná die eerste verskyning lyk die oordeel my nog geldig."

In 1942 was Jochem van Bruggen die eregas op die Afrikaanse Skrywerskring van Johannesburg se dinee wat gehou is met die publikasie van die sewende jaarboek van die Skrywerskring.

In 1951 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns erelidmaatskap aan Jochem van Bruggen toegeken.

In Desember 1953 het Helikon ’n dinee ter ere van Jochem van Bruggen gegee en die Kersuitgawe van die blad is aan hom opgedra. Die dinee is gereël om nuwe kragte in die Afrikaanse letterkunde, rolprent en kultuur aan Van Bruggen voor te stel. (Transvaler, 8 Desember 1953)

Die Universiteit van Pretoria het ook in 1953 ’n eredoktorsgraad aan Jochem van Bruggen toegeken.

Jochem van Bruggen was in 1982 die onderwerp van die vyfde interhoërskool-vasvrawedstryd wat onder die beskerming van die Afrikaanse Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse polisie (Akpol) gestaan het.

Op Woensdagmôre 22 Mei 1957 is Jochem van Bruggen stil in sy huis op Steenkoppies by Magaliesburg oorlede nadat hy ’n geruime tyd ernstig siek was. Hy is op 24 Mei 1957 in die ou familiekerkhof op Steenkoppies begrawe. Meer as 300 mense het die diens in die NG Kerk wat deur ds EG Malan gelei is, bygewoon.

Huldeblyke
 

  • Hertzog Venter: "Vir die Afrikaanse volk en letterkunde is sy heengaan ’n groot verlies – nie omdat hy die afgelope jare ’n baie aktiewe en produktiewe skrywer was nie, maar omdat hy jare lank in die brandpunt van die ontwikkeling van die Afrikaanse prosakuns gestaan het. Sy werk oorspan die hele ontwikkeling van die intrigeroman tot by die uitbeelding van die individuele. Ook lê die betekenis van Jochem van Bruggen vir die Afrikaanse prosa daarin dat hy die eerste prosaïs is in wie die uitbeelding van die mens tot rypheid kom, naamlik met die skepping van die klassiek geworde karakter Ampie.

"Jochem van Bruggen is een van die belangrikste verteenwoordigers van die realisme in ons letterkunde. Terselfdertyd het hy aan die realisme ’n bepaalde karakter gegee daarin dat dit gemeng is met idealisme. (...) Jochem van Bruggen se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde sal altyd leef; dit is ’n blywende monument wat nie stom is nie, maar tot in verre geslagte sal spreek van liefde en deernis." (Die Weste, 30 Mei 1957)

  • CM van den Heever: "Hierdie kunstenaar wat as jong knaap uit Holland hier aangekom het, het die Afrikaanse leefwyse so goed leer ken en hom gaandeweg so hartstogtelik daarmee versoen dat hy in sy werk steeds getuienis lewer van die drang om die Afrikaanse lewensbeeld suiwer en treffend weer te gee. Hy het in sy werk vir ons blywend vasgelê die groot verandering wat daar plaasgevind het tussen die Boerelewe van vroeër dae wat hy geken en so geniaal beskrywe het, en die lewe van vandag. (...) Hy is weg uit ons midde, maar sy werk sal bly lewe omdat hy, die skrywer, die skepper, self so waaragtig en eg mens was." (Fleur, 26 Maart 1957)
  • Volksblad-hoofartikel: Jochem van Bruggen sal nie sterf nie. Hy sal bly voortleef in die lag en die traan van sy prosawerke en so lank Afrikaans bestaan, sal sy kuns in dankbare herinnering gelees word. Om historiese redes sal hy in die literatuurgeskiedenis van ons taal onthou word, maar ook om suiwer literêre verdienste sal hy steeds sy plek onder die Afrikaanse prosaïste inneem. (...)

"Van Bruggen is ’n voorbeeld van die gebore Nederlander wat in die volste sin van die woord Afrikaner kan word. In sy lewensiening het hy die Hollandse besadigdheid behou wat soms aan die sombere grens, maar daarby het hy ons tipiese boerehumor aangegryp wat soos fyn weerlig deur sy werke speel. (...) Immers, sy werke vertel meestal die verhaal van die minderbevoorregte Afrikaner se ellende, nie met verbittering nie, maar met weldadige begrip. (...) Sy kuns het beperkinge, maar dit neem nie weg dat hy in sy fleur ’n prosaïs en stylis was wat al die kransies van hulde verdien wat nou op sy kis gelê word." (23 Mei 1957)

  • Transvaler-hoofartikel: "Al was Jochem van Bruggen sedert jare in swakke gesondheid ervaar die volk nietemin ’n gevoel van diepe gemis en verlies, want met hom het een van die groot dienaars van die Afrikaanse woord en een van die sterk figure in die Afrikaanse prosakuns die rus ingegaan. Van Bruggen het die Afrikaanse letterkunde verryk en verhef in die dae van kleine dinge toe werk van gehalte nog skaars was. Sy Ampie is een van die onverganklike figure in ons letterkunde. (...) Die Afrikaanse taal en letterkunde sal in lengte van dae sy skuldenaar bly." (23 Mei 1957)
  • Die Burger-hoofartikel: "Totdat Jochem van Bruggen op die Afrikaanse letterkundige toneel verskyn het, was die Afrikaanse lesende publiek gewoond aan verhale van oorlog, of van liefde en ander hewighede. Maar hier het ’n man sit en vertel sommer van aldag se dingetjies op die plaas en van doodgewone mense wat ons eie bure kon gewees het. So eg en raak, so lewenswaar was die samelewing van die Slaplaagtes en ander plekke geteken dat hulle ons sterker geboei het as die heldedade en ander emosies in die romanliteratuur. (...) En toe Ampie naderhand sy intrede doen, het geblyk dat dit alles vooroefening was vir die skepping van die populêrste figuur in die Afrikaanse letterkunde. Die Ampie-trilogie sal een van ons eie klassieke bly, nie net omdat Van Bruggen die grondlegger van die realisme in ons lettere was nie, maar omdat dit ’n produk is van ’n diepe liefde vir ons boeremense met wie die skrywer één geword het, gepaard met ’n noukeurige waarnemingsvermoë wat deur geeneen van sy opvolgers oortref is nie. (23 Mei 1957)
  • Jewish Affairs: "Van Bruggen's place in Afrikaans literary history is assured. It is sometimes enough to say about an author that his place is assured in the text-books for him never to be read again, he becomes a record, a sort of national fossil to be unearthed by the archaeologists of culture with their crude, hurting tools. Nevertheless, about certain authors one can say this without fear. No matter how roughly the fibres are torn, they will survive. The toughness which enabled them to produce creative works will override this ill-treatment too. So it will be with Van Bruggen. He can pass the test of being a 'classic'. (...) Some of his writings were, in my opinion, quite atrocious, as only the works of a real writer can be. But at his best, in what he lovingly depicted, he discovered, conquered and colonized as only an unalloyed writer can." (IP, Junie 1957)
  • J van der Berg, destyds leraar van die NG Gemeente Magaliesburg: "Hoewel hy as skrywer aan die ganse Afrikanervolk behoort, het hy as mens aan ons hier in Magaliesburg behoort." (Bron en datum nie op knipsel vermeld)
  • In 1959 het die Afrikaanse Skrywerskring ’n gedenkplaat op Jochem van Bruggen se graf onthul. Abel Coetzee, voorsitter van die Skrywerskring, het by dié geleentheid gesê: "Die nageslag dink vandag in stilte en eerbied aan ’n kunsbroer wat ons geslag voorafgegaan het en wat soveel bereik het om die oë van sy volksgenote oop te maak vir die Afrikaanse werklikheid wat hulle omring." (Transvaler, 24 September 1959)
  • Rob Antonissen: "In suiwerheid van voorstelling en segging het Van Bruggen se werk in die 1920's en 1930's steeds toegeneem. Sy humor word gevoeliger, fynsinniger gevarieerd van die grappige tot die ironiese. Hy word ’n meester van die karakter-onthullende dialoog en inwendige alleenspraak, van die keurig-volvoerde dinamiese tafereel, van die konsekwente karakterisering; veral wat monoloog en gesprek betref, het min Afrikaans prosaïste die waaragtigheid van Van Bruggen se kuns ooit benader, laat staan geëwenaar. (...) Ek glo dat ek hom geen onreg aandoen nie as ek sê dat hy, juis deur die enting van sy humor-realistiese tipe-psigologie op ’n 'continuo' van avontuur-episodes, ons in Afrikaans iets laat proe het van die pikareske roman se heerlikheid." (Die Huisgenoot, 15 Julie 1957)
  • Abel Coetzee: "Jochem van Bruggen se werk was meer volksaardig, die beskrywing van die roue en ruwe werklikheid uit die volkslewe. Maar vir geen oomblik mag ons uit die oog verloor dat Van Bruggen ook ’n idealis was nie. Hy teken nie net die verval nie, maar hy dui ook die oorsaak van die verval aan, en dan suggereer hy die weg van herstel. Sy idealisme is dus die idealisme van die goeie, deeglike outydse skoolmeester wat leer, en wat lerend in diens staan van die gemeenskap wat hy wil ophef. Hy benader dus deur die werklikheid heen ’n toestand van idealisme – die houding van die sogenaamde didaktikus in die verhewe betekenis van die woord. En daarin verskil sy werk opvallend van die werk van die meeste van sy tydgenote, daarin lê sy eie toonaard as kunstenaar, sy eie krag, en dis dít wat aan sy romankuns blywend ’n plek besorg in die Afrikaanse letterkunde." (Tydskrif vir Letterkunde, Desember 1959)

In Tydskrif vir Letterkunde (September 1951) het Van Bruggen een en ander vertel oor hoekom hy ’n skrywer geword het: "Ek neem aan dat my lewenslot die aanleg daartoe gegee het: My geboorte, die trek van ons huisgesin na Transvaal, en die Tweede Vryheidsoorlog. Ek moes op die platteland kom woon na die Boere se stryd. Indien ek in Johannesburg gebly het, sou ek allig ’n skrywer van speurverhale geword het. Geld domineer daar, en die verhale betaal die beste.

"Ek het die gawe, wat op die plaas ontwikkel het, as ’n roeping aanvaar en in selfvertroue met selfkritiek opgevolg. Beoordelings van deskundiges het my selfkritiek versterk, dog ook die opvatting van my werk verinnig. Bekronings, wat hoog staan, het my bekend gemaak en moed gegee. Materialistiese bemoeienis met my gees se gawe, het soos water op vuur gewerk. Nabestaandes en vriende, wat geld as nommer een beskou het, kon my verdrietig, soms wanhopig maak. Hulle was die oorsaak dat ek in jare nie kon geskryf het nie. So iets kan die meeste mense nie begryp nie. Dit is sielkundig waar. Materialisme en kuns kan geen boesemvriende wees nie. ’n Kunstenaar moet sonder dwang met sy gawe en talent kan woeker."

Oor Jochem van Bruggen se skryfproses het Gerhard Beukes (Ons Eie Boek, 1951) vertel dat Van Bruggen se "skeppingswerk altyd worstelwerk" was. Verskillende mense wat bekend was met sy werksmetodes het dit vertel. "Vir persone wat sy werk goed ken, was hierdie bevestiging nie eens nodig nie – hulle kon dit uit die intensiteit waarmee elke sin en woord 'geleef' is en waarmee elkeen van sy karakters intiem leer ken is, reeds aflei. Onlangs het ek by Felix Lategan die eerste manuskrip van Ampie, die natuurkind, in Van Bruggen se eie handskrif in ’n paar oefeningboeke geskryf, deurgeblaai. Dit was asof ek in die handskrif voor my weer die hele skeppingsworsteling weerspieël kon sien. Die letters is hakkerig, bewerig en ongevormd – amper nes die stotterende gesprek van iemand wat vol grootse gedagtes is , maar so swaar uiting daaraan kan gee, omdat hy hakkel. (...)

"Wanneer ’n mens aan die realis Van Bruggen dink, dink jy vanself aan sy uitbeelding van die minderes in die lewe – die minderbevoorregtes, die minderwaardiges, die verstandelik-minderbedeeldes. Sy belangstelling in hierdie wesens was nooit dié van die moderne 'professionele' skrywer wat altyd op soek bly na gegewens en ’n stofgebied wat 'anders' is as die bekende nie. (...) Hy het hulle geken en verstaan soos sy eie huismense. Daarom kon hy ook hulle sielegang met sy onthullende gedagtespraak en openbarende geselsbrokkies so duidelik voor ons laat ontvou. En daarom spreek daar uit sy voorstellingswyse van hierdie boeretipes, die humor van gemoedelikheid – die laggie sonder die angel van die satire, sonder die bitterheid van die ironie en sonder die lagwekkende neerhaal van skynwaardes wat ons by die bloot komiese vind. (...)

"Van Bruggen bemin die onvolmaakte in die mens met ’n begrypende liefde. En eerder as om oor die onvolkomenheid te gaan treur, glimlag hy daaroor met ’n weemoed wat die mondhoeke in ’n laggie skeef laat trek naar die oë peinsend treur. (...) Om hierdie groot en wesentlike bydrae tot ons letterkunde sê ons vir Jochem van Bruggen met ’n warm handdruk: Baie dankie!"

VE Lategan het in Lantern van Desember 1981 Jochem van Bruggen se bydrae só opgesom: "Met Ampie het Van Bruggen die oorgangsfiguur geword wat die brug sou span uit die sukkeljare van Afrikaans tot ’n lewende taal en medium van ’n kragtige prosaskepping. Miskien kon hy juis sy krag en besieling put uit die aard van sy wese. Daar was so baie wat Jochem van Bruggen gehad het om te verwerk om aan sy menswees volle waardigheid te verleen. Van Bruggen was ’n skrale vyf-voet-tien en het moeilik beweeg. Sy spraakgebrek was opvallend – die vreemdeling moes hom inspan om sin te maak uit Jochem van Bruggen se onbeholpe woordvorming.

"Maar die spontane hartlikheid, verskuil agter ’n masker, het sy fisieke eienaardighede heeltemal oorskadu. Van Bruggen kon hom met oorgawe aan ’n geselskap gee; sonder strak gesigte en swaarmoedigheid is daar uitgesien na sy teenwoordigheid. Onder al sy gemoedelikheid en breë menslikheid het hy egter ’n opvlieënde humeur verberg. Dit was net by uitsondering dat hierdie drifbuie in hom gewoed het en gewoonlik was dit die gevolg van verwyte en, nog erger, sprekende en beskuldigende stilswyes. Dit was dus geen wonder dat die skrywer hom in hierdie opsig so kon inlewe in die gemoedslewe van sy natuurkind Ampie nie. (...)

"Waar het Van Bruggen voedsel vir sy gees gevind? Sy letterkundige smaak was suiwer. In Engels het hy veral groot waardering gehad vir Thomas Hardy, John Galsworthy en Bernard Shaw, terwyl hy in Hollands ’n voorliefde vir Van Looy se Jaap en Jaapje, Johan de Meester se Geertje en De Vries se Bartje gehad het. By Van Looy het hy die tegniek geleer om binne die vel van sy skeppinge te kruip en tot in die fynste besonderhede hulle introspektiewe mymergedagtes aan die leser bloot te lê, wonderlike vermoë waardeur Van Bruggen se karakters, en veral sy Ampie-skepping, tot sulke lewende gestaltes gegroei het.

"Daar is so baie waaroor ons Jochem van Bruggen moet huldig. Hy het nie net ’n groot bydrae tot ons letterkunde gelewer nie, maar ook tot ons kultuur. Hy stig ’n debatsvereniging, ’n toneelvereniging, asook ’n plaaskoor, terwyl altesaam 16 boeke uit sy pen verskyn het. Deur sy werke het hy deel gehad aan die stryd om ons taal te vestig. En nou, in 1981, kan ons met trots terugkyk na die lewe en werke van een van die grootste baanbrekers in die Afrikaanse romankuns."

In 1981, met die herdenking van Van Bruggen se 100ste verjaardag, het JP Smuts Jochem van Bruggen se werk in oënskou geneem: "Veral op grond van die eerste twee dele van die Ampie-trilogie het Van Bruggen baie jare lank ’n toonaangewende figuur in die Afrikaanse letterkunde gebly. Van Bruggen se belangrikste romanfigure is oorwegend minderbevoorregtes, die armblankes van sy tyd oor wie hy dikwels met groot deernis en ook bekommernis geskryf het. Dit is as sodanig nie noodwendig ’n tydgebonde aspek van sy werk nie, want skrywers deur die eeue het die vraagstukke van hulle tyd tot tema van hul werk gemaak. (...)

"Tema alleen bepaal nie sukses of mislukking nie – dit is die onderdele of gehele wat artistiek bevredigend geskryf is wat die toets van die tyd kan deurstaan. In die geval van Van Bruggen is daar nie enkelwerke wat deurgaans op ’n hoë vlak oortuig nie, maar hy het wel daarin geslaag om uitstekende onderdele te skryf. Sy leesbaarste romans is die Ampie-trilogie en Die sprinkaanbeampte van Sluis.

"In sy beste oomblikke breek Van Bruggen meermale weg uit die geykte beeld wat daar van hom bestaan dat hy ’n humor-realis is wat die klein mens in sy beperkte omgewing en met sy relatief geringe problematiek skerp bekyk en dikwels met ’n groot mate van simpatie uitbeeld. Dit is trouens opvallend dat van die allersterkste gedeeltes in sy werk opgebou is rondom sterfmomente, dié soort toneel wat ’n skrywer se vermoëns tot die uiterste toets. (...)

"Ondanks kras oordele wat al oor Van Bruggen se werk gevel is, moet ’n mens erken dat hy meer as net antikwariese waarde het binne die Afrikaanse literatuur. Hoewel die eietydse leser hom eerder spontaan aansluit by die literatuur van sy dag, bied Van Bruggen se werk knap onderdele en verteenwoordig sy beste romans ’n belangrike ontwikkelingstadium binne die Afrikaanse letterkunde." (Die Burger, 29 September 1989)

Publikasies:

Publikasie

Teleurgestel

Publikasiedatum

  • 1926
  • 1918
  • 1919
  • 1925
  • 1930

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1917

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op veld en rande

Publikasiedatum

  • 1920
  • 1923
  • 1924
  • 1930
  • 1933
  • 1945

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die burgemeester van Slaplaagte

Publikasiedatum

  • 1922
  • 1924
  • 1929
  • 1935
  • 1936
  • 1950
  • 1951
  • 1952
  • 1953
  • 1854
  • 1958
  • 1983

ISBN

0628024045 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ampie: die natuurkind

Publikasiedatum

  • 1924
  • 1925
  • 1927
  • 1930
  • 1931
  • 1934
  • 1938
  • 1942
  • 1972

ISBN

0628001800 (hb)

Uitgewer

  • Amsterdam: Swets & Zeitlinger
  • Amsterdam: Wereldbibliotheek
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1925

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ampie: die meisiekind

Publikasiedatum

  • 1928
  • 1930
  • 1948
  • 1973

ISBN

062800401X (hb)

Uitgewer

  • Amsterdam: Swets & Zeitlinger
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1927

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ampie: toneelspel in drie bedrywe

Publikasiedatum

1930

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die gramadoelas

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1934
  • 1945
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Booia

Publikasiedatum

1931

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: De Bussy

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die sprinkaanbeampte van Sluis

Publikasiedatum

  • 1933
  • 1960
  • 1972
  • 1988

ISBN

  • 0627000304 (hb)
  • 0627015735 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Hertzogprys 1933

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nuwe Afrikaanse kortverhale. Saam met Sangiro en Leon Maré

Publikasiedatum

1933

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: De Bussy

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die maalstroom: ’n drama in ses bedrywe uit Die burgemeester van Slaplaagte

Publikasiedatum

1934

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wraak

Publikasiedatum

1938

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met Ampie deur die depressie

Publikasiedatum

1939

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die noodlot

Publikasiedatum

  • 1939
  • 1942
  • 1944

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ampie. Deel drie: Die kind

Publikasiedatum

  • 1942
  • 1943
  • 1944
  • 1946
  • 1973

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Amsterdam: Swets & Zeitlinger
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kranskop. Deel I: Oupa

Publikasiedatum

1943

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die damwal

Publikasiedatum

1945

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stryd

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Haar beproewing

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karakters op ons vlaktes: keurverhale. ’n Bloemlesing uit die prosawerk van Jochem van Bruggen

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1957
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die weduwee

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ampie, die trilogie

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie prosastukke

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1973
  • 1985

ISBN

  • 0627001695 (hb)
  • 0627014054 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Jochem van Bruggen beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Jochem van Bruggen (1881–1957) appeared first on LitNet.

Eleanor Baker (1944–2002)

$
0
0

Gebore en getoë

Eleanor Elizabeth is op 21 Augustus 1944 in Pretoria gebore. Sy was die tweede oudste van vyf kinders – vier dogters en een seun – van Christie en Ena Liebenberg. Haar pa was later jare professor in chemie aan die Universiteit van Pretoria. DF Malherbe was haar oupa se neef.

Eleanor het haar grootwordjare op ’n plasie buite Pretoria deurgebring. Sy kon onthou hoe haar pa altyd nadat hy smiddae by die huis gekom het, sy ou klere aangetrek het om die plaas op sy trekker te verken. Vandat sy ses jaar oud was, het sy alles wat sy kon vind, gelees. Pretoria het ’n deurslaggewende rol in haar lewe gespeel deurdat haar pa daar aan die universiteit gewerk het en sy daar skoolgegaan het.

Toe sy op hoërskool was, wou haar ouers gehad het sy moet wiskunde neem, maar Eleanor het geweet sy wil eendag skryf en het toe tik geneem, aangesien dit nuttig te pas sou kom in haar skryfwerk. In 1957 het sy begin om dagboeke te hou – die een het op die ander gevolg en sy het dit later as goeie oefening gesien wat baie daartoe gehelp om haar gedagtes te orden.

Eleanor matrikuleer in 1961 aan die Hoërskool FH Odendaal in Pretoria.

Verdere studie en werk

Na skool gaan Eleanor na die Universiteit van Pretoria, waar sy aanvanklik BMus studeer. Sy verwerf ook haar onderwyskwalifikasie en in 1968 behaal sy haar MA-graad cum laude onder Elize Botha. Vanaf 1967 tot 1975 gee sy onderwys in Johannesburg.

In 1969 trou sy met Walter Baker, ’n Engels-onderwyser, wat by die diplomatieke diens aansluit. Hulle gaan in 1975 na Teheran in die destydse Persië, waar hulle vir drie en ’n half jaar bly. Alexander, hulle oudste kind, is in Teheran gebore. Hulle woon daar totdat die revolusie in 1979 uitbreek.

Die tyd in Teheran voordat die revolusie uitgebreek het, was vir haar baie interessant en opwindend – dié beste tyd vir haar in die buiteland, het sy aan Louis Krüger (De Kat, Augustus 1988) vertel: “Aanvanklik het ek die plek gehaat, maar toe ons moes weggaan en alles besig was om in duie te stort, het ek die hardste van almal gehuil. [...] Maar ek verlang nie terug nie – dit is meer ’n soort nostalgie soos wat ’n mens ervaar vir enige land waar jy gewoon het.” Eleanor was ses maande swanger met Christine toe sy haar man in Iran moes agterlaat en met Alexander moes vlug.

In 1980 verskyn As ’n pou kon vlieg, wat oor hulle verblyf in Teheran handel. Vir Hilda Grobler (Hoofstad, 31 Julie 1980) was Eleanor se uitbeelding van die atmosfeer van die stad, die revolusie wat aan die opbou is, die stadig maar sekere ondergang, die haat en die ontevredenheid wat onder dié wat dit nie so breed gehad het nie, besig was om tot uitbarsting te kom, baie goed. “’n Mens voel nêrens dat iets vir effek gedoen word nie: die gegewens, en die bedaarde en objektiewe wyse waarop dit uiteengesit word, skep self die effek, en dit is ’n ontstellende effek wat die leser meesleur en laat voel dat hy self die woedende opstand van die massa in Teheran beleef.”

Hulle kom terug na Suid-Afrika en na die geboorte van Christine gaan woon die gesin vir drie jaar in Den Haag in Nederland, daarna vir twee en ’n half jaar in Montreal, Kanada, en ook in Brussel.

In 1994 keer die gesin na Suid-Afrika terug, waar hulle hulle vir eers in Brooklyn in Pretoria vestig voordat hulle in 1997 in Klein Brakrivier aan die Kaapse Suidkus gaan aftree. Eleanor vertel aan Wilhelm du Plessis (De Kat, Junie 2001) dat hulle dit die paradys noem. “Daar is walvisse in die winter van die bo-stoep af, andersins see en sand, en hoofsaaklik vrede. Ja, ek mis Europa, veral Holland wat naas die Suid-Kaap my geliefkoosde plek op die aardbol is, maar dit is ’n geval van ‘been there, done that’.”

Op 1 Julie 2002 is Eleanor oorlede as gevolg van longinfeksie nadat sy twee maande vroeër met limfkanker gediagnoseer is.

Eleanor se eerste boek wat sy vir publikasie voorgelê het, is summier afgewys, en so ook die tweede een. Die tweede een stuur sy toe na ’n ander uitgewer om nog ’n opinie te kry. Hierdie keer het die uitgewers haar geskakel en met haar daaroor gesels. “Hulle het my aangemoedig om te skryf en ’n paar veranderings voorgestel,” vertel Eleanor aan Louise le Roux (Oggendblad, 3 Maart 1982).

Eleanor se eerste roman, Wêreld sonder einde, word in 1972 deur Perskor uitgegee. Daarin leer die leser vir mevrou Bildendyk ken. Sy is ’n eensame, versukkelde en arm vrou in haar kamertjie wat sy teen lae koste huur. Sy leer ken die jeugmisdadiger Ricky, wie se bende hom mishandel. Sy pas vir Ricky vir ’n paar dae in haar kamer op sonder dat iemand dit uitvind. Deur hierdie omstandighede het twee uiteenlopende wêrelde en perspektiewe bymekaar uitgekom: haar sagmoedigheid en gemis na haar dogter oorsee en Ricky met sy opstandigheid omdat sy ma hom verstoot het, asook die agtergrond waarteen hy lewe.

Vir AJG in Oggendblad van 5 Februarie 1973 is die verhaal leesbaar. Die skrywer toon beslis dat sy ’n vermoë het om te skryf. Sy kort egter nog verfyning op tegniese gebied.

AvZ (Volksblad, 26 Junie 1973) beskryf Wêreld sonder einde as ’n boeiende verhaal met ’n tema wat die verhaal besonders maak. "Dit is ’n voortreflike roman wat tema en styl, gedagte en beeld betref."

Vir Eleanor is mense en die verhoudings tussen hulle baie interessant, en omdat dit vir haar belangrik is om te skryf, sal die leser dít wat sy waarneem, in haar skryfwerk vind, het sy in ’n onderhoud met Hettie Scholtz (Die Transvaler, 4 Januarie 1974) vertel.

“Ek dink dit is omdat ek op ’n plaas grootgeword het, dat ek so behep is met die invloed wat die stad op mense se morele kode het. Ek het êrens gelees dat iemand sê dat dit vandag die Afrikaanse skrywer se plig is om aandag te gee aan die groot probleem van ons tyd – die wit-swart-verhouding. Maar al gee ek dit toe, kan ek nie daaroor skryf nie. Ek voel my aangetrokke om oor maatskaplike en menslike probleme te skryf – soos in my tweede roman Splinterspel, wat die verhouding tussen ’n dominerende ma en haar kind uitbeeld. Ek het probeer aantoon dat daar soms ’n mate van regverdiging kan wees vir so ’n oorheersing. Niemand is ooit heeltemal ‘goed’ of ‘sleg’ nie.”

Splinterspel (1973) handel oor die geestelike versplintering van die hoofkarakter, Johanna, oudste dogter van ’n moeder wat haar dogter oorheers.

PD van der Walt (Transvaler, 20 Mei 1974) het as volg oor Splinterspel geskryf: "Dit is ’n kundige en kunstige roman wat besonder lesenswaardig is. Dis ’n treffende verhaal, iets bo die maat van die gemiddelde verhaal, en tog is dit vry van enige pretensie om groot literatuur te probeer wees. Miskien juis om die eerlike talentvolheid van die skryfster, en harde werk om ’n goeie roman te skryf, is Splinterspel iets heel besonders.”

Hannie Schutte (Transvaler, 4 Februarie 1974) het gemeen dat Baker dit vir haarself moeilik gemaak het deur die beskrywing van die geestelike verval in die eerste persoon te skryf, "want om in die beelding van geestelike wanbalans die ewewig te bewaar tussen werklikheid en waansin, is moeilik genoeg, maar om dit te doen in die mond van die persoon wat die versplintering ondergaan, vereis ’n sekere meesterlikheid. Die spanning in die verhaal word mooi volgehou, en die legkaart van Johanna se lewe word stuksgewys uit haar eie mond voltooi.”

Volgens Anna van Zyl (Volksblad, 21 Mei 1974) het Eleanor Baker beslis skryftalent. “Sy kan werklik beeld soos blyk uit die hoogtepunte. Maar sy moet haar meer toelê op die gedagte van werklike eenheid tussen gedagte en uitdrukkingswyse om so tot oortuigende gestaltegewing te kom.”

Gedurende haar skoolhoujare was dit vir Eleanor problematies om haar skoolhou en skryf effektief te kombineer. Haar skryfwerk het op sy beste gevloei wanneer sy na musiek luister en in die nag skryf, en lank voordat sy aan ’n boek begin skryf het, het sy al oor die tema begin tob, het sy aan Joan Kruger (Vaderland, 9 Maart 1974) vertel.

“Ek word rusteloos, maar snags, tussen wakker en slaap, wanneer my onderbewussyn verdoof is, kom die oplossing. Ek skryf vinnig en direk ná die derde hoofstuk ‘loop’ die karakters vanself. Ek kan nie vooraf sê wat hulle gaan doen nie. Elke karakter slaan sy eie rigting in en al wat ek kan doen, is om te sorg dat hulle getrou aan hulle identiteit bly.”

Sy het verder aan Kruger vertel dat sy dit as die skrywer se plig sien om oor ernstige dinge te skryf, “oor dinge wat saak maak, dinge wat verkeerd is, slegte dinge. Ek kan net skryf as ek betrokke is – as ek vere voel vir ’n ding, moet ek maar laat staan. Ek voel ook dat ek ’n hekel daaraan het om doelbewus modern te wees, om doelbewus drieletterwoorde te gebruik. Ek gaan nie meedoen aan enige mode nie. Natuurlik moet ’n mens getrou wees; jy moet sê wat jy moet sê. As dit nodig is, sal ek ook seksperversie en kru woorde gebruik. Maar dan moet dit vir die karakter nodig wees. Net soos ek doelbewuste kruheid verafsku, so verafsku ek ook preutsheid. Daardie kolletjies wat volg as dinge intiem begin raak. Dan moet ’n mens so iets liewer heeltemal uitlos.”

Eleanor dra haar boeke aan Walter op, want hy is ’n baie goeie kritikus en het ’n omvattende kennis van die letterkunde en kan haar dadelik op enige swakplekke wys.

Mørketiden word in 1975 gepubliseer, ook deur Perskor. Clinton Alexander, ’n gegoede man, is die hoofkarakter. In die "Voorspel" van die verhaal sien hy homself in die granietbeeldjie van ’n forel wat in ’n binnehof van ’n gebou vasgehou word deur die gerubyntjie. Die roman kan beskou word as ’n tipe psigodrama waarin die hoofkarakter na "sinvolheid" soek.

In Die Burger van 13 November 1975 skryf Abraham de Vries dat die res van die boek "hierdie soektog deur kamers en gange in ’n wetenskapsfiksie-wêreld vol terugkerende figure en met ondervragings, jeugherinnerings, letterlike kaalstropery en monoloë as handelingsaspekte (beskryf). Die titel wat letterlik 'die donker tyd' beteken, is die benaming van die jaar se allerdonkerste periode in die Skandinawiese lande: dié weke wanneer die son in streke van Noorweë glad nooit sy verskyning maak nie."

André P Brink het in Rapport (26 Oktober 1975) geskryf: "Daar is uitmuntende situasies in hierdie werk, hoewel daar ’n gebrek aan integrasie is. Al is die werk nie heeltemal bevredigend nie, is daar opwindende momente waaruit ’n onmiskenbare talent en komposisievermoë blyk."

In Die Suidwester skryf SEvZ dat ook in hierdie roman Eleanor nog altyd "die kundige hanteerder van taal en situasie bly, met ’n aanprysenswaardige vermoë tot dialoog. Daar is egter iets soos ’n versadigingspunt in die letterkunde. Ek reken ons is dié punt ten opsigte van die eksistensialistiese roman ook in Afrikaans reeds verby.”

In 1978 verskyn Monica by Tafelberg Uitgewers en weer eens neem die kritici van Eleanor notisie. Die hoofkarakter is ’n huisvrou, Monica, uit wie se gesigsaspek die verhaal vertel word. Sy is vasgevang in die roetine van haar daaglikse bestaan. JP Smuts (Die Burger, 27 Julie 1978) skryf verder: “Algaande word dit egter duidelik dat dié lewenswyse nie onverbiddelik deur die huislike opset op haar afgeforseer word nie, maar dat die soort bestaan waarin sy vasgevang is, ’n selfgeskepte gevangenis én skuiling is waarin sy, as neurotiese persoon, haar verskans teen die lewe en teen haar eie skuldkompleks. [...] Monica is ’n werk wat as soort baie nou aansluit by die ontwikkelingsroman en die biegroman.”

Só het Ronél Johl (Transvaler, 1 Julie 1978) oor Monica geskryf: "Dit is ’n roman wat van nougesette en deeglike vakmanskap getuig, asook ’n werk wat die uitdaging van direkte beelding en ongekompliseerde konstruering aanvaar het en wat oortuigend slaag, ondanks insinkings waar die eentonigheid begin verveel."

En André P Brink (Rapport, 18 Junie 1978) het geskryf: "Eleanor Baker se verdienste lê veral in die wyse waarop sy, ná ’n baie stadige begin, met groot subtiliteit en meedoë die patos van die menslike lot laag vir laag afskil soos ’n ui. Plek-plek ontkom sy nie aan die gevaar van dié prosedure nie: dat die voorstelling van verveeldheid sélf vervelig kan word. Maar dit is heel selde. [...] Met hierdie ryp en waardige roman – sy paar insinkinge ten spyt – het Eleanor Baker onmiskenbaar vir haar die reg verwerf om geréken te word in die merkwaardige versameling vroue wat aan ons jonger literatuur so ’n besondere dimensie verleen.”

In ’n Geslote boek, wat in 1981 verskyn, maak die leser kennis met Magdaleen, wat ’n sekretaresse by ’n firma in die buiteland is. Sy moet sakemanne op die lughawe ontmoet waarna hulle by haar in haar huis tuisgaan. Resensente het die verhaal as ’n "stuk sosiale kommentaar wat anders lyk" tot "Victoriaans en yl" beskryf.

In 1984 verskyn Weerkaatsings: ’n sprokie by Human & Rousseau, wat Eleanor self in Engels vertaal. Dit word ook in Hebreeus, Sweeds, Fins en Deens vertaal. In 1985 word dit met die Kaaplandse Helpmekaar-FAK-prys vir Ontspanningsleesstof bekroon.

In 1986 publiseer ’n Deense tydskrif, Allers, sowel as in ’n Finse tydskrif, dit as vervolgverhaal.

André P Brink (Rapport, 11 November 1984) som die storie as volg op: “[D]at Lize Bergen na België gaan om behandel te word vir ’n seldsame bloedkwaal, en dan deur ’n ‘kluisenaar-miljoenêr’, Charles Ashton, in sy sorg geneem word; dat hulle in hul geleentheidshuwelik albei gestrem word deur ’n onvermoë om te kommunikeer; sy deur natuurlike skroom en die verleentheid van haar afhanklikheid; hy deur ’n liefdelose jeug – en dat dit ’n langsame, pynlike groeiproses verg voordat hulle deur skadubeelde, ‘weerkaatsings’, kan leer kyk om die self, maar ook die ander, te ontdek.”

Hy het verder geskryf: "Baker maak van die storie net ’n beginpunt vir ’n fyn innige en vergaande verkenningstog binne-in mense in. Weerkaatsings is een van die subtielste prosawerke is wat lank in Afrikaans verskyn het. En een van die mooistes: vir dié leser wat ’n baie-baie lekker storie wil geniet.”

In die Mei 1985-uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde het Ia van Zyl geskryf dat Baker dit reggekry het om ’n roman te skryf waarin sy nie slegs die slaggate van te veel emosie vermy het nie, maar dat ook die intelligente leser deur die storie geboei sal word. “Die sprokiesverhaal word slegs die vertrekpunt vir die knap uitbeelding van die groeiende verhouding tussen twee besondere mense. Die skryfster besit die vermoë om deur terughouding die leser se aandag te bly behou.”

Eleanor wou met Weerkaatsings die volgende regkry: "Ek wou die liefdesverhaal legitimiseer, die stigma dat ’n roman nie noodwendig goeie letterkunde is nie, die nek inslaan. Daarom is die sukses van die boek so soet – behalwe dat dit in vyf tale vertaal is, is dit ook vir skole voorgeskryf en oor die radio voorgelees."

Eleanor was op haar gelukkigste in Nederland en Weerkaatsings en Dossier van ’n gyseling (1985) is tydens hulle verblyf in Den Haag geskryf. Dossier is ook die enigste roman tot op daardie stadium waarvoor sy navorsing gedoen het.

Sy vertel aan Sonnette Lombaard dat sy onwrikbaar in haar karakters glo. “Wanneer die storie eers in my kop is, wéét ek hoe die karakters sal optree.”

In Dossier van ’n gyseling vertel Eleanor die verhaal van Christien, ’n gewone meisie wat ’n jaar lank oorsee gaan rondloop om “ondervinding” op te doen. Op die laaste dag van haar oorsese verblyf, terwyl sy by ’n reisagentskap wag om haar terugkaartjie te reël, word sy saam met ander mense in die kantoor deur ’n paar terroriste oorval en as gyselaar weggeneem na ’n onbekende plek waar hulle vir tien dae in aanhouding is.

Weer eens meen André P Brink (Rapport, 12 Januarie 1986) dat die wyse waarop die kritici Eleanor behandel, ’n skande is. Hy skryf in Rapport: “Haar gevoelige roman Monica het ’n paar (hoofsaaklik patroniserende) kommentaartjies ontlok; die subtiele ’n Geslote boek het bykans sonder ’n rimpel verdwyn; die geraffineerde moderne sprokie Weerkaatsings is òf geïgnoreer òf – deur mense wat van beter behoort te weet – as ‘damesromannetjie’ afgemaak; en een van die keurigste prosawerke van 1985, Dossier van ’n gyseling, is nou sowat vier maande na sy verskyning nog byna nêrens vermeld nie. En dit gaan hier om ’n skryfster wat in vele opsigte in haar fynsinnige hantering van die geringste verskuiwinge in menseverhoudinge enige tyd Karel Schoeman (op sy beste) se gelyke is! Sy het in hierdie roman (soos Etienne Leroux wat destyds die patroon van die speurverhaal in Een vir Azazel gebruik het) die uiterlike voorkomste van die populêre spanningsverhaal gebruik om dít dan te omvorm en te verinnerlik sodat die allerfynste menslike interaksies nagespeur kan word."

Anna van Zyl (Volksblad, 24 Augustus 1985) het met Brink saamgestem: "Dossier is ’n puik boek wat boeiend gestruktureer is deur iemand wat fyn waarneem en taalknap beeld; wat haar karakters mense maak, elkeen ’n individu uit eie reg. Dis ’n akkurate dossier dié, maar dan nie net hard feitelik nie, maar met insig in die mens se dieper wesenlikheid.”

Vir Eleanor was hulle gesin se verblyf in Kanada in die middel-tagtigs traumaties. Met hul terugkeer na Suid-Afrika het dit by die huis nie veel beter gegaan nie – die Suid-Afrikaners was in isolasie en bedruk. Eleanor skryf toe Die kwart-voor-sewe-lelie (1988), bloot met die doel om haar landgenote te laat ontspan. En as daar resensente was wat ander dinge in die boek wou raaksien, het dit haar nie gepla nie. Die lelie bestaan regtig – in Eleanor se tuin groei dit, hierdie rare plant wat tydens sy blomtyd elke aand op dieselfde tyd oopgaan.

In Beeld (20 November 1989) skryf Joan Hambidge: "Iris, die hoofkarakter, beleef, net soos in ’n damesroman, die Lewe en al die mites wat ’n mens daagliks teister. Net met een groot verskil: Sy weet dat alles nie regtig so lelieblank is as wat ’n mens vertel word nie. Daarom dan dat die verteller, ’n sardoniese ek, tussen parenteses haar siening verklaar òf belaglik maak. [...] Eleanor Baker se jongste roman verdien om gelees te word. Dié roman getuig van ’n vermoë om ’n verhaal op twee vlakke te kan struktureer (die konvensies van die damesroman versus ’n ironiese blik daarop). Die taalbeheer beïndruk nogmaals. Die beskrywing van verre plekke doen eg aan ...”

In Die Burger van 30 Maart 1989 is Gunther Pakendorf minder vleiend: "Daar is te veel los drade en ongemotiveerde veranderinge en te veel onafgeronde gebeure en abrupte slotte."

Vir Anna van Zyl (Volksblad, 11 Februarie 1989) was dit ’n "pikante en genotvolle boek wat boei – veral die karakters, wat warmbloedige mense is."

Hans Ester (Zuid-Afrika, 2002) skryf soos volg oor van Eleanor se werke: “Zeer dierbaar zijn mij de volgende romans van Eleanor Baker: Die kwart-voor-sewe-lelieIn die middel van die Karoo (1991), Die nes (1993) en Verbeelde werklikheid (1996). Het menseljik gesprek neemt in haar werk de meest prominente plaats in. In de gesprekke gebeurt het, daar ervaren haar mensen de hoogten en de diepten van het bestaan. Die kwart-voor-sewe-lelie kreeg ik van een lid van een damesleesklub in Johannesburg waar ik te gast was. Ook om de mooie herinnering aan Johannesburg is het voor mij een bijzonder boek. De ikverteller Iris komt in de roman tot leven als een beminnelijke vrouw, aan wie je je als lezer steeds sterker gaat hechten.”

Eleanor se tiende roman, In die middel van die Karoo, verskyn in 1991 by Human & Rousseau. In die roman beland die twee hoofkarakters, Anna en Danie, in die Karoo en op hulle plaas verskaf Rudus en Susaar onderdak aan die siekes en die soekendes. Cecile Cilliers skryf in Insig (Februarie 1992): "Eleanor Baker het ’n fyn aanvoeling vir die onderlinge spanning tussen mense, en ’n deernis met die ewige strewe na geluk. Daarom snoer sy uiteenlopende elemente bevredigend saam, en smee ’n oortuigende sintese van omgewing en verhaal. Haar jongste roman is in die middel van die Karoo geplaas, en die verskillende fasette van die landstreek in die kom van die Swartberge – hitte en koue, droogte en nat, die ruimte en die stilte – word knap in die fisieke en geestelike lewens van die karakters weerspieël.” Cilliers het egter ’n probleem met die swak taalversorging.

Hierdie keer is Gunther Pakendorf (Die Burger, 21 Januarie 1992) baie meer positief. "Eleanor Baker skryf onderhoudend, met ’n goeie aanvoeling vir menslike verhoudings en ’n fyn humorsin. Sy loop ook nie met stilistiese en narratologiese foefies te koop nie en het altyd deernis vir menslike gebreke en swakhede. Die roman is beskeie sonder pretensies, maar vlot geskryf en nie sonder diepte nie. Dis die soort boek waarvan daar gerus meer kan wees.”

Vir Gretel Wÿbenga (Beeld, 6 Januarie 1992) was dit ’n "weldadige leeservaring".

Kritici het op ’n stadium gestry oor Eleanor se posisie in die Afrikaanse letterkunde. Party beskou haar werk as verstrooiingslektuur ("dameslektuur" noem hulle dit uit die hoogte), terwyl ander, soos André P Brink, haar werk as postmodernisties beskou.

In ’n onderhoud met Corlia Fourie in Rooi Rose van 23 Augustus 1995 sê Eleanor oor kritiek op haar boeke: “Die resensente is dikwels smalend oor boeke en die resensies nie objektief genoeg nie. As ’n resensent nie van ’n sekere storie hou nie, waarom nie vra dat die boek deur iemand anders geresenseer word nie?”

Veral die manier waarop kritici Die nes (1993) ontvang het, het haar ontstel: “Joan Hambidge het dit in Insig verpletter nog voor die boek verskyn het. Selfs resensies wat my boeke prys, is soms ’n mistasting. En omdat ek stories skryf wat van A tot Z werk, dink die kritici dit kan nie goed wees nie, want almal verstaan dit.”

In Volksblad (1 Augustus 1994) skryf Riana Barnard: "Die nes ontplooi binne die vier mure van ’n psigiatriese kliniek, maar die personeel en pasiënte kleur die vertelling in méér skakerings as gewone hospitaalwit. Die hoofkarakter, Karoline Kerr, is van die begin af ánders: sy verweer haar teen die aanslae van die lewe deur ’n veilige nes te skep waarin sy niemand toelaat nie. Hierin leef sy, ’n bekroonde skrywer, in stilte sonder die woorde wat voorheen besondere betekenis gedra het. Hierdie is ’n boek vir diegene wat hulle brood aan albei kante gebotter wil hê. Hier is baie gewilde prosa vir die lekkerleser: warmbloedige karakters van wie jy swaar afskeid neem in die slot, beskrywings wat atmosfeer skep, en ’n boeiende spanningslyn wat ontknoop sonder om jou uit die skoene te skok. Tog word hierdie toeganklike leesstof só aangebied dat dit nie die literêre leser irriteer of moraliseer nie. Die teks is ryk genoeg aan literêre tegnieke om opwinding ook vir die meer ervare leser te verskaf.”

Verbeelde werklikheid (1996) is ’n roman binne ’n roman. Sophia, ’n huisvrou, het ’n man wat van haar verwag om die garagedeur én die swembad reg te maak en hulle het ook twee onaangename tieners. Haar gesin waardeer ook nie die romans wat sy skryf nie. Sy leef haar dus in in haar roman oor die hartchirurg, Paul, en sy romanse met Elizabeth wat hy red nadat sy deur ’n tros bloublasies bygekom is. In die roman word dele van Sophia se alledaagse bestaan afgewissel deur tonele van die ryk Elizabeth wat by die see woon én ’n goeie bestaan maak as belegger van ander se geld.

Vir Nanette van Rooyen (Skrywers en Boeke, 27 Junie 1996) slaag Eleanor Baker baie goed daarin om op ’n behendige manier feit en fiksie en werklikheid en verbeelding te vermeng. “En as jy nog dink jy het te make met ontspanningslektuur, word jy kort voor lank bewus van ’n verwikkelde verhaal wat jou manipuleer en heelwat meer bied as dit waarop jy gereken het. [...] Verbeelde werklikheid is juis dat daar ’n verskuiwing in realiteit plaasvind tussen die fiktiewe lewe van Elizabeth en die realistiese lewe van Sophia.”

JC Kannemeyer (Rapport, 30 Junie 1996) skryf: "Eleanor Baker slaag daarin om ’n meesleurende verhaal op te bou en ’n roman tot stand bring wat ragfyn beplan is. Die karakters wat sy skep, kry ’n eie dinamiese lewe. [...] [En] daar kom ’n boeiende verhouding tussen fiksie en werklikheid in die roman tot stand. Elizabeth bly byvoorbeeld nie beperk tot haar afgebakende alternerende hoofstukke nie, maar tree telkens die wêreld van haar skepper binne. [...] Verbeelde werklikheid is ’n voortreflike roman, sowel wat betref die pakkende vervlegting van twee verhale as die aanwending van ’n besondere tegniek. Ek vind dit Eleanor Baker se allerbeste werk.”

Elize Botha (Beeld, 26 Augustus 1996) beskryf die roman as volg: “’n Ware Scheherazade speel haar betowerende spel in hierdie verlokkende roman, waarin, naas die oeroue verhale van liefde en verlange, ontnugtering en vervulling, die vernaamste tema inderdaad die kuns van die storieverteller is. ’n Mens sou hierdie tema wetenskaplik kon benader: ’n ondersoekende student sou selfs ’n klein verhandeling oor die vertelkuns uit hierdie boek kon haal. Maar Baker, meesterverteller, redeneer nie daaroor nie. Soos Eliza Doolittle dit sing in My fair lady, wýs sy vir haar lesers wat die storieverteller met sy kuns kan doen, en wat dié kuns in die lewe van ’n verteller kan aanrig. [...] Baker self is die Scheherazade, wat haar deur die gekose motto lewensbeskoulik verbind aan TS Eliot (‘... human kind/ Cannot bear very much reality’ – Burnt Norton), en met humor en verfynde vaardigheid haar leser, tyd en ruimte vergetend, in haar vertelkuns meevoer.”

Op ’n vraag hoe lank dit haar neem om ’n boek te skryf, antwoord Eleanor dat dit baie wissel (Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2003): “Somtyds skryf ek die hele storie in my kop klaar, oor en oor tot by die laaste punt en komma. Om dit dan uiteindelik neer te skryf, duur net omtrent ses weke. Normaalweg duur dit egter ses tot nege maande. Vir Groot duiwels dood waar ek geweldig baie moes lees en navorsing doen, is dit weer anders. Die boek het omtrent twee jaar gevat om te skryf. Groot duiwels dood en Dossier van ’n gyseling is die enigste boeke waarvoor ek navorsing gedoen het, die res kom uit my kop uit. Op ’n manier ‘word’ ek die hoofkarakter in die meeste van my boeke, of ten minste die kanaal waardeur die hoofkarakter sy/haar storie vertel en wanneer dit eers gebeur het, weet ek eenvoudig hoe hulle sal optree, dis nie nodig om na te vors nie.”

Groot duiwels dood (1998) is een van die eerste fiksietekste wat gepubliseer is ten tye van die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog. Eleanor vertel aan Hettie Scholtz (De Kat, 26 Februarie 1999) dat sy hierdie roman begin het lank voor die Anglo-Boereoorlog-wa vertrek het. “Miskien is dit ’n onbewuste uitvloeisel van jare se argumente met Britse vriende oorsee, vriende wat geen kennis gedra het van die gruwel van konsentrasiekampe nie, en dis aangewakker deur insidente op TV waar ’n Britse koninklike besoek bring aan die Duitse kampe en daarna in ontsetting – en onkunde – vra: ‘Wie het so ’n gruwelikheid uitgedink?’ En daar is nie een klappende handjie wat opgaan met: ‘Julle, juffrou, julle!’ nie. Ek skryf ook nog altyd liewer oor mense as gebeure, en in my navorsing het ek op soveel diep menslike stories afgekom dat ek dit net moes neerskryf.”

Op ’n vraag van Hettie oor die herkoms van die titel – of groot duiwels doodmaak of dat groot duiwels dood is – antwoord sy dat dit uit ’n boek van Christiaan de Wet kom. Dit is volgens hom ’n “Boeregesegde” as dit vreeslik baie reën: “Dit reën groot duiwels dood en kleintjies se bene af.” Sy sê “[e]nigeen van die twee interpretasies sou geldig wees.”

Groot duiwels dood bied ’n kykie op die lotgevalle van Cornelia, haar kinders en kennisse tydens die Anglo-Boereoorlog en gee ’n blik op die lyding van dié wat tuisgebly het en diegene in die konsentrasiekampe. In Die Burger skryf Herman Wasserman (2 Desember 1998) dat dit in die eerste plek nie ’n verhaal is "wat op die groot (manlike) arenas van die wêreldpolitiek of slagvelde gebeur het nie (dit gebeur wel gedetailleerd, maar indirek), maar eerder van die ontberings wat die vroue te beurt geval het as gevolg van hul mans se besluite om oorlog toe te gaan. Dit is ’n wye, epiese blik op die oorlog wat weens die vaardige vertelling aangryp. [...] Dis ’n roman wat getuig van deeglike werk en ’n verhaal wat in die geheue bly draai.”

Leana Lategan (Volksblad, 15 Februarie 1999) beskou dit as ’n "oorlogsroman wat pligsgetrou met historiese feite omgaan, en terselfdertyd op ’n nugter wyse mites ironiseer. Maar dit is ook ’n lekker leesbare inhoud in die tipies verfrissende styl van Baker. Natúúrlik is daar klein jakkalsies in die wingerd, maar die pluspunte is meer. Die roman is ook ’n kultuurhistoriese dokument, met ’n eiesoortige skat aan ouer Afrikaanse woorde en uitdrukkings. Tipies Baker word die feite op ’n oopkop-manier aangebied, of dit nou oor die Boere, die Britte of hul helpers gaan. Die ligte en plek-plek humoristiese ondertoon verskaf ’n geloofwaardige teenvoeter vir menslike leed.”

’n Ou begin (2001, Human & Rousseau) vertel die verhaal van Judith Meiring wat wil wegkom uit die besige lewe in die stad. Haar twee tienerkinders gaan bly by hulle twee oumas en sy kom aan op ’n klein dorpie in die Karoo waar sy langer as ’n week vertoef. Haar ma het vir haar ’n pakkie briewe saamgegee met die versoek dat sy dit moet lees, en deur hierdie briewe probeer sy sin maak van haar lewe en vrede maak met haarself.

Leana Lategan (Volksblad, 23 April 2001) skryf: "Die gemaklikheid waarmee Baker die hoofkarakter klee, is eie aan haar vertelstyl. Baker se kenmerkende skerp (en altyd verfrissende!) kyk na delikate verhoudinge tussen mense, haar humor en ligte ironie maak van die roman gemaklike leesstof. (Die twee of drie drukfoute wat deurgeglip het, is hinderlik.)”

Eleanor vertel aan Wilhelm du Plessis dat ’n Ou begin sy ontstaan gehad het uit die ondervinding deur op ’n klein plekkie te bly en al die stories van die mense op die plekkie, hoewel dit niks te doen gehad met Klein Brak waar sy gebly het nie. “Dis eintlik ’n kombinasie van twee dinge: die kleindorpse bestaan en ’n versameling briewe in my besit wat dateer uit 1875 en daar rond. Die twee stories vleg deur mekaar en raak aan mekaar op onverwagte maniere.”

Johan Coetser (Beeld, 28 Mei 2001) skryf: "’n Ou begin sluit aan by reisliteratuur in Afrikaans waarin ’n karakter nie net fisies op reis gaan nie, maar ook op ’n reis van self- of herontdekking. Gou word dit duidelik dat Hannie se briewe ’n matriks vir Judith se lewensreis en kort verblyf vorm. Die skryfster vermy die gevaar om Judith se verhaal in Hannie se geskiedenis te laat vassteek. In plaas daarvan bied Baker deur verplasing ’n beeld van vrou wees in ons tyd.”

Die ander Marta verskyn in 2002 na Eleanor se afsterwe. Daarin lees ons van Mart en Hendrik, wie se huwelikslewe idillies begin het. As jong onderwyseres ontmoet Mart vir Hendrik, die jong boer, toe sy vir ’n onderhoud na haar tuisdorp gaan. Maar hy is die oorheersende tipe en hoewel Mart hom aan die begin laat begaan, word dinge vir haar later net te veel. Sy los hom in die supermark, neem haar motor en vat net die pad. Die roman begin waar Mart probeer selfmoord pleeg deur in die see by 'n Weskusdorpie in te stap, maar die see wil haar ook nie hê nie.

Vir Leana Lategan (Volksblad, 6 Januarie 2003) het Eleanor ’n "paar onvergeetlike karakters en situasies geskep en sy stel die leser bloot aan die verskillende skakerings van menslike verhoudings. Baker is ’n meesterlike stilis, wat weet wanneer om haar lesers te terg en wanneer om te vertel. [...] Baker se bekende, maar altyd vars humor en werklike nuwe kyk na ons oënskynlik ondramatiese klein bestaan, maak van hierdie teks weer eens ’n hartsboek. Die ander Marta is die bekoorlike afsluiting van ’n besonderse klein oeuvre in Afrikaans.”

Gretel Wÿbenga (Beeld, 9 Desember 2002) beskou dit as ’n slag vir ons letterkunde dat Eleanor Baker kort voor die verskyning van hierdie vyftiende roman skielik oorlede is.

Dorothea van Zyl (Literator, Augustus 2003) skryf: "Die roman gee ’n baie herkenbare en oortuigende beeld van hoe die keurslyf van konvensies en tradisies binne verhoudinge vroue in teennatuurlike rolle kan indwing. Dit illustreer ook effektief hoe verbale mishandeling ’n vrou se selfbeeld kan afbreek en haar oor jare van haar selfvertroue, onafhanklikheid en ware aard kan ontneem. [...] Die karakterisering transendeer myns insiens nie altyd die banale en triviale genoegsaam om die problematiek uit te lig tot op ’n hoër vlak nie. Dit is egter die vraag of dit die bedoeling was. Die ander Marta wil eerder lewenswaarhede oor menseverhoudinge, die aard van die vrou, jeug en ouderdom ligweg oordra. Juis die herhaalde keuse vir ’n ligter tred, selfs op die vooraand van haar eie dood, gee aan Eleanor Baker se roman (soos aan haar oeuvre) ’n heel besonderse dimensie – as ’n viering van die lewe en die positiewe. Dit maak ook haar werk by uitstek toeganklik en genietbaar vir ’n ruim publiek.”

Die ander Marta is deur Celeste van Rooyen tot ’n toneelstuk verwerk en in 2005 by die KKNK op die planke gebring, waar dit beskou is as die moeite werd om te gaan kyk.

Behalwe die boeke wat Eleanor onder haar eie naam geskryf het, het sy ook 29 liefdesverhale onder die skuilnaam Christine le Roux die lig laat sien, en vyf speurverhale onder die naam Alex Müller. In 1996 het haar liefdesverhaal Die ontbrekende helfte die Ela Spence-medalje vir liefdesverhale verower. Sy skryf ook kinderboeke, en haar tienerverhaal Daar is spore op die maan is met die Scheepersprys vir Jeuglektuur vir 1990–1992 bekroon. Na haar dood word haar liefdesverhale, sowel as die verhale wat sy onder haar eie naam geskryf het, in die een omnibus na die ander uitgegee.

In 1993 is Eleanor deel van die Vierspel-projek van TV1 se Departement Afrikaanse Drama. Dit was die breinkind van Paul C Venter. Vier skrywers wat reeds bewys het dat hulle ’n verhaal met karakters kan vertel, hetsy in roman-, kortverhaal- of dramavorm, kry dieselfde gegewe wat hulle as wegspringplek vir ’n enkeldrama moet gebruik. Die gegewe was: ’n Eensame ou man woon alleen op ’n afgeleë plaas met sy kat as enigste geselskap. Naby die plaashuis is ’n bos waar die ou man gaan stap. Hier vind hy ’n beseerde vreemdeling wat sy hele lewe verander. Die vier draaiboekskrywers, Eleanor Baker, Zirk van den Berg, Melvin Whitebooi en André le Roux, is deur Venter en Johan Bernard in die skryfproses gelei. Eleanor se draaiboek se titel was En toe kom Wynand. Dit is in 1994 gebeeldsend met Marikie Longhurst as regisseur. Nog ’n draaiboek deur haar, Dooiehout, is ook gebeeldsend.

In Insig van Junie 2001 vertel Eleanor aan Hettie Scholtz dat sy partykeer wens dat die stories in haar kop wil opdroog sodat sy iets anders kan doen. “Ek wil nie razzle nie. Ek wil in hierdie vreedsame plek opstaan en langs die see stap en skryf en lekker boeke lees en in my tuin vroetel en konfyt kook. Om konfyt te kook, veral iets moeilikers soos kweperjellie, gee my veel meer genot as om ’n boek te skryf.

"Walter se ouers het vir hom gesê as hy die dag trou, moet hy ’n lewensmaat op drie vlakke toets: hoe sy oor die weg kom met oumense, kinders en diere. Sy vrou kry tien uit tien op haar 'rapportkaart' – al kon hy haar nog nie leer tango nie. Eleanor se siening is: 'Solank ’n mens kan lag, is die lewe nooit vervelig nie.' En hierdie siening is gekoppel aan ’n lewenshouding wat op alle vlakke van hierdie stylvolle vrou (sy hou van goedkoop lekkers en soeterige wyn, maar van dúúr skoene en parfuum) se lewe deursuurdeeg: jy neem jou werk ernstig op, maar nie jouself nie. Vandaar die motto van GK Chesterton voor in haar roman Die kwart-voor-sewe-lelie: 'Angels can fly, because they take themselves lightly'" – aldus Hettie Scholtz (Insig, Junie 2001).

Oor boeke wat sy gelees  het en haar beïnvloed het, het Eleanor aan Beeld van 10 Julie 2000 vertel: "As ek terugdink aan my kinderdae sou ek The Secret Garden uitsonder. Dis die eerste boek wat my bewus gemaak het van die mistieke towerwêreld waarin 'n boek jou kan dompel. En, besef ek eers in die jare daarna, dis waar my liefde vir tuine en plante begin het.

"Toe ons in Kanada gewoon het, het ek met Farley Mowat se boeke kennis gemaak. Teen daardie tyd het ek reeds al Gerald Durrell se boeke gelees. Ek hou van boeke oor diere en hulle beskerming. Mowat se A Whale for the Killing het my jare lank in radelose trane gehad. Waar ek tans betrokke is by ons plaaslike Beware wat hom beywer vir die beskerming van plant- en seelewe, besef ek eers dis Mowat wat die saadjie geplant het. Sy boek oor die sinlose, wreedaardige marteling en doodmaak van 'n vasgekeerde walvis is nou nog vir my 'n rou kol. Ek is goddank bly ons maak nie meer walvisse dood in Suid-Afrika nie, dat ek nou op my stoel kan staan en kyk hoe hulle in die see baljaar.

"Dan is daar natuurlik brieweboeke en gepubliseerde dagboeke. Miskien is dit die voyeur in my, maar ook die direktheid en eerlikheid van 'n dagboek. Virginia Woolf, andersins so 'n formidabele mens, klim uit haar dagboek as 'n gesellige, huislike mens, so 'n bietjie ydel oor 'n nuwe rok of jas. Iemand saam met wie ek sou wou tee drink. En dis tog waarom ons lees; dat papiermense vir ons lewendig word en hulle probleme aanklank vind by ons s'n."

Huldeblyke aan Eleanor Baker

  • André P Brink: "Eleanor Baker is een van Afrikaans se beste skrywers en dis jammer dat baie Suid-Afrikaners dit dalk nooit, of te laat, gaan agterkom nie." (Beeld, 17 Julie 2002)
  • Elize Botha: "Sy was buite die raamwerk van erkenning en die groot pryse, omdat haar fyn sin en aanvoeling vir mense se romantiese gevoel waarskynlik by baie ernstige lesers verbygegaan het. Haar herkenning en kennis van dié integrale deel van die menslike weefwerk is dalk misverstaan." (Beeld, 17 Julie 2002)
  • Hettie Scholtz: "Baker was ons eie “cantadora” – geliefde storieverteller – wat oënskynlik met die grootste gemak onder skuilname tussen genres beweeg het. Sy het oor al die eienskappe van die ander bekende storieverteller, Clarissa Pinkola Estés, se “wild woman” beskik – haar kapasiteit vir liefde en toewyding, haar sterk intuïsie en dapperheid." (Volksblad, 3 Julie 2002)
  • Kerneels Breytenbach: "Sy was in baie opsigte presies soos haar boeke. Pretensieloos met ’n baie fyn humorsin, ’n meester met mense." (Volksblad, 3 Julie 2002)
  • Hans Ester: "De omvang van het oeuvre van deze schrijfster is indrukwekkend. Zij moet een ijzeren werkdiscipline hebben gehad. Belangrijker is uiteraard de inhoud van haar werk. Die onderwerp uit de romans van Eleanor Baker zijn niet buitenissig. Dat betekent niet dat deze schrijfster preuts is en levensfeiten verdoezelt. Het gaat bijna altijd om de kern van het menselijk bestaan, het wankele evenwicht tussen intimiteit en vertrouwen aan de ene kant en vervreemding en emotionele verwaarlozing aan de andere kant." (Zuid-Afrika)
  • Jeanette Ferreira: "Eleanor Baker was ’n elegante vrou, maar ’n warm mens wat eerlikheid en weerloosheid met dieselfde ontsag bejeën het. Haar prosa was ’n sonderlinge kombinasie van skeppingskrag en lewenswerklikheid, omdat sy werklik aan die lewe gewerk het. Presies twee maande voor haar dood het ek vir haar geskryf ek het vir haar kappertjies voor my studeerkamervenster geplant. Sy het teruggeskryf: 'Hou my kappertjies nat, ek glo in die positiewe krag van plante. En skryf.' Die dag voor haar dood het haar kappertjies in die koue begin blom." (Volksblad, 3 Julie 2002)
  • Walter Baker: "Daar was soms heerlike stryerye met haar oor haar werk. Sy het altyd, ook in onderhoude met joernaliste, ’n mate van mistiek behou en van vrae teruggeskram wat sy as te persoonlik beskou het. Sy was onkreukbaar; mens- en dierliewend. Soos Wêreld sonder einde (haar debuut in 1972), was dié 'n Leitmotif in haar werk: die onwaarskynlikheid van wat kan gebeur." (Volksblad, 3 Julie 2002)

Publikasies:

Publikasie

Wêreld sonder einde

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1990 (Grootdruk)

ISBN

  • 0628002653 (hb)
  • 0795923120 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Splinterspel

Publikasiedatum

1973

ISBN

0628004397 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Mørketiden

Publikasiedatum

1975

ISBN

0628008333 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Monica

Publikasiedatum

1978

ISBN

06240125% (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

As ’n pou kon vlieg: ’n verblyfboek oor Teheran

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1982

ISBN

0624018296 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Reisboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

DF Malherbe: mens en meester

Publikasiedatum

1981

ISBN

0907966213 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Juventus

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Geslote boek

Publikasiedatum

1981

ISBN

0624016080 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Bootjie oor die see

Publikasiedatum

1982

ISBN

0868145025 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Nels van Groenewoud: ’n jeugverhaal

Publikasiedatum

1983

ISBN

0907996639 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Juventus

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Weerkaatsings: ’n sprokie

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1987
  • 1991
  • 2004 (Grootdruk)

ISBN

  • 079811746X (hb)
  • 079812825% (sb)
  • 1415002665 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin, 1986

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

FAK-prys vir Ontspanningsleesstof 1985

Vertalings

  • Engels vertaal deur die outeur, 1986
  • Hebreeus vertaal deur Clara Cohen, 1987
  • Sweeds vertaal deur BM Thieme, 1987
  • Deens
  • Fins

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dossier van ’n gyseling

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1994

ISBN

  • 0798118601 (hb)
  • 0798133635 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Kaapstad: Ametis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die kwart-voor-sewe-lelie

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798124648 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die middel van die Karoo

Publikasiedatum

1991

ISBN

079812900X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Daar is spore op die maan

Publikasiedatum

1991

ISBN

0798631422 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1990–1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die nes

Publikasiedatum

1993

ISBN

07981130768 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verbeelde werklikheid

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135417 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Groot duiwels dood

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138572 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1999

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Ou begin

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141336 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ander Marta

Publikasiedatum

2002

ISBN

0798142790 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eleanor Baker Omnibus 1

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146338 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eleanor Baker Omnibus 2

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149310 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Christine le Roux:

Publikasie

’n Veilige hawe

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1996
  • 2003 (Grootdruk)

ISBN

  • 0799305294 (hb)
  • 079932289X (hb)
  • 141500062X (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kosbaar soos die lewe

Publikasiedatum

1981

ISBN

079930557X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die lente kom weer

Publikasiedatum

1982

ISBN

0799306258 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skynglans van geluk

Publikasiedatum

  • 1985
  • 2004 (Grootdruk)

ISBN

  • 0799308498 (hb)
  • 14150002657 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Deel van die pakket

Publikasiedatum

1993

ISBN

0799319635 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Liefde uit die stormnag

Publikasiedatum

  • 1993
  • 2004 (Grootdruk)

ISBN

  • 0799318639 (hb)
  • 1415000875 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: President-Boekklub
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Teësinnige erfgenaam

Publikasiedatum

1994

ISBN

  • 0799320323 (sb)
  • 0799320277 (sb) (Grootdruk)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Vonk van liefde

Publikasiedatum

  • 1994 (Grootdruk)
  • 2005

ISBN

  • 079932101X (sb)
  • 0799321079 (sb) (Grootdruk)
  • 1415003424 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die honger hart

Publikasiedatum

1995

ISBN

0799322172 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Treffer-Boekklub

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Liefdesvallei

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2002 (Grootdruk)

ISBN

  • 062835640 (sb)
  • 1869048334 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die ontbrekende helfte

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2004 (Grootdruk)
  • 2006 (Grootdruk)

ISBN

  • 0799321737 (hb)
  • 0799321672 (Grootdruk)
  • 1415001138 (hb)
  • 0799336351 (sb) (Grootdruk)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Parklands: Jacklin
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Ela Spence-medalje vir Afrikaanse liefdesverhale 1996

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Wêreld sonder hom

Publikasiedatum

  • 1995
  • 2005

ISBN

  • 0799321958 (hb)
  • 0799334480 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verwarde liefde

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2002 (Grootdruk)

ISBN

  • 0628036191 (sb)
  • 1869048563 (hb)

Uitgewer

  • Halfweghuis: Perskor
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verskuilde liefde

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799322504 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Nuwe begin

Publikasiedatum

1996

ISBN

079932311X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Bitter hartstog

Publikasiedatum

1996

ISBN

0628035713 (sb)

Uitgewer

Midrand: Perskor

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die groen maan

Publikasiedatum

1996

ISBN

0799322806 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die glasappel

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798137533 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Kwessie van tegniek

Publikasiedatum

1997

ISBN

0798136634 (sb)

Uitgewer

Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verborge liefde

Publikasiedatum

1997

ISBN

062803640X (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Liewe onskuld

Publikasiedatum

  • 1997
  • 2003 (Grootdruk)

ISBN

  • 0799324221 (hb)
  • 186904973X (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verlore dekade

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323640 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Bewys van liefde

Publikasiedatum

  • 1998
  • 1999
  • 2005 (Grootdruk)

ISBN

  • 0798135956 (sb)
  • 0798138211 (sb)
  • 1415003297 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die blou uur

Publikasiedatum

  • 1999
  • 2005

ISBN

  • 079135956 (sb)
  • 1415003297 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Geskenk uit die hemel

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140100 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Tweede beste

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2004 (Grootdruk)

ISBN

  • 0798141107 (sb)
  • 141500286X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die uitkenningsparade

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2004 (Grootdruk)

ISBN

  • 079814226X (sb)
  • 1415002487 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kanteldag van die hart

Publikasiedatum

2002 (Grootdruk)

ISBN

0799330493 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Om lief te hê

Publikasiedatum

2003 (Grootdruk)

ISBN

1869049527 (hb)

Uitgewer

Parklands: Jacklin

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 1

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2009

ISBN

  • 079814128X (sb)
  • 9780798150323 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 2

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141573 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 3

Publikasiedatum

  • 2001
  • 2011

ISBN

  • 0798141980 (sb)
  • 9780798152785 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 4

Publikasiedatum

  • 2002
  • 2011

ISBN

  • 0798142685 (sb)
  • 9780798156165 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 5

Publikasiedatum

  • 2003
  • 2013

ISBN

  • 0798143355 (sb)
  • 9780798159395 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 6

Publikasiedatum

  • 2004
  • 2014

ISBN

  • 0798144076 (sb)
  • 9780798166102 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 7

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798144815 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 8

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146117 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 9

Publikasiedatum

2007

ISBN

0798148177 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Christine le Roux Omnibus 10

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149143 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Liefdesverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

As Alex Müller:

Publikasie

Die vyf susters

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138424 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Speurverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die rooi angelier

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139250 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Speurverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Drie misdade in ’n knoop

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140283 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Speurverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Bloedbande

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141484 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Speurverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hotel Bergsig

Publikasiedatum

2003

ISBN

0798175%90 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Speurverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Eleanor Baker beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Eleanor Baker (1944–2002) appeared first on LitNet.

Leon Rousseau (1931–2016)

$
0
0

Leon Rousseau (1931–2016)

Gebore en getoë

Leon Gerdener Rousseau is op 5 Maart 1931 in Kaapstad gebore, die jongste kind van Pierre Daniël en Elisabeth Anna Luise (gebore Gerdener). Hy is 21 jaar jonger as sy broer Pierre Etienne, die stigter van Sasol, en 13 jaar jonger as sy jongste suster. Leon is vernoem na ’n Jood, kommandant Lion Cachet, onder wie sy pa in die Boere-oorlog geveg het, en na sy grootvader aan moederskant, ’n Duitse eerwaarde Johann Gerdener, van die Rynse sendingstasie Wupperthal in die Sederberge.

Sy moeder se oupagrootjie was Michiel Christiaan Vos, die skrywer van Merkwaardig verhaal aangaande het leven en de lotgevallen van Michiel Christiaan Vos als predikant der Hervormde Christelijke gemeente, ’n outobiografie wat in 1824 verskyn het.

Sy pa was aanvanklik skoolinspekteur, en later direkteur van bekende maatskappye soos Sanlam. Sy grootvader aan vaderskant was ds PD Rossouw van Fraserburg, een van die Patriot-digters. Hy was, sover bekend, die eerste Rossouw wat die ou Franse spelling van die van weer ingevoer het: hy het al sy kinders “Rousseau” gedoop. Aan moederskant was daar meer as een voorsaat wat as gevolg van hulle skrywery bekend was. Een was dr GBA Gerdener van Stellenbosch, ’n oom van Leon.

Leon het in Kaapstad grootgeword in ’n tydperk toe die verkeer in die stad só lig was dat “jy op ’n fiets sonder remme van heel bo in Oranjezicht tot in Dokweg kon ry”.

Hy praat oor sy kinderjare met Murray la Vita (Die Burger, 14 September 2012): “Oranjezicht was my stomping ground; my kontrei. Ek was ’n laatlam; 13 jaar jonger as my jongste suster, so ek was maar eintlik ’n enkelkind. My herinneringe is grotendeels wonderlik. Ek onthou daar het elke kwartier ’n bus in Marmionweg, naby my ouerhuis, verbygekom waarop ek kon spring. En natuurlik, soos daardie gedig van Ina Rousseau: alles was standvastig, stabiel ... In die ou dae, in ons kinderdae, was alles so stabiel, rustig, vreedsaam, en nou het moord so alledaags geword soos brood.”

Hy vertel verder vermoedelik aan Willemien Brümmer (Die Burger, 5 Maart 2011): “Vroeg in 1937 was ek vyf, op pad na ses. Ek was ’n laatlam. My ouers het in Oranjezicht in Kaapstad gewoon, en in daardie buurt was Afrikaanssprekendes destyds yl gesaai.

“My sibbe was byna almal uit die huis en my ouers was te oud om vriende met kinders van my ouderdom te hê. Ek is verwen met ’n driewiel en ’n teddie en ’n ghollie en ’n treintjie met spore en ongeveer 30 Helena Lochner-boekies, maar ek was eensaam, teruggetrokke en stil.

“Enter dr C Louis Leipoldt, die Kaap se bekendste kinderarts. ‘Niks fisiek verkeerd nie,’ bevind hy vroeg in 1937 ná ’n ondersoek. ‘Let him run free for a while.’

“‘Dus nie nou al skool toe nie,’ besluit my pa, ‘ons gaan wys eers vir Leon die wildtuin.’

“So gesê, so gedaan. Ons gaan wildtuin toe, ons kom terug en in Junie word ek by die Laerskool Jan van Riebeeck in Kloofstraat afgelewer, waar ek in sub B, in dieselfde dubbelbank as Erni Grosskopf, beland. En hy lag my uit omdat ek huil.

“Van toe af was alles anders. Ons word goeie vriende; ons doen alles saam. Net een, enkele keer kry ek dit reg om eerste in die klas te staan – toe Erni vergeet om sy vraestel in te handig. (Later, in matriek, sou hy eerste in die Kaapprovinsie staan.) Ons stap van die skool na sy huis en soms na myne. Hoe veilig was alles in daardie dae! Erni se ma – vroeër Kotie Strauss van Calvinia, maar toe mev EB Grosskopf – word deur haar kinders Mutti genoem, en sy neem my feitlik aan. In die Grosskopfs se kombuis op klein Festchen word ek bekend gestel aan zervelat, mettwurst, leberwurst, Duitse brood en ander eksotiese lekkernye waarvan ek tevore nooit eens gehoor het nie. Dit is vir my ewe opwindend as ’n middernagfees vir koshuis-kinders. Later sou ons saam Scrabble speel, Monopoly, die kaartspel Vingt-un. Ek onthou dit soos gister.

“In die Kersvakansie van 1939, kort ná die begin van die oorlog, huur my ma La Gratitude, die Pickstones van appelfaam se groot vakansiehuis op die Riviera (vandag Grotto Beach by Voëlklip op Hermanus) in ’n poging om die hele familie tog eenmaal bymekaar te kry.

“Daar kon Erni en ek elke oggend ná ontbyt deur die spelonke van die melkhoutwoud na die heerlike strand nael – myle der myle oop, spierwit sand waar jy die ganse dag lank kon speel en swem sonder om meer as enkele ander mense te sien.

“Ons slaap, baie avontuurlik, in die solder met sy dakvensters en rietplafon. In hierdie plafon bêre ons geskrifte wat ons as lede van ons eie geheime klub vir die nageslag wil bewaar. Toe ek byna 70 jaar later na die geskrifte gaan soek, het die een of ander Filistyn ’n gemesselde plafon laat insit – die geheime dokumente was vir ewig verlore! In Mutti se oë was my grootste prestasie van daardie jare dat ek vir Erni se kapokkies ’n hoenderhok help bou het. My pa het ’n werkbank gehad, en daar het ek ’n bietjie met gereedskap leer werk. Dié groterige konstruksie, met deurtjie en al, het jare lank in die Grosskopfs se erf bly staan.

“Êrens in ons hoërskooljare het ’n derde musketier bygekom, Hugo Smuts. Tydens skoolvakansies het die drie van ons lang ente geryloop, gewoonlik na Port Elizabeth, en meermale op versoek in polisieselle oornag. In een tronk het ons nie net huisvesting gekry nie, maar ook ’n puik ontbyt.

“Die verskyning van fietse in ons lewe het ’n nuwe wêreld laat oopgaan, want nou kon ons die Skiereiland deurkruis en gaan swem net waar ons wil, van Houtbaai in die weste tot Vishoek in die ooste.

“In die bloktyd van ons matriekjaar, 1947, sit ons by my ouers se huis hoog bo in Oranjezicht. Ons al drie se fietse is daar. Waarheen nou? ‘Aha, vandag gaan ons afdraand tot in Dokweg ry, maar op een fiets.’ Blink gedagte!

“Erni voor, Hugo agter, ek in die saal, en daar gaat ons. Af in Glencoeweg, Strathcona, Marmion, Montrose – en daar word dit so steil dat die remme ingee. Teen ’n hoë spoed om die draai by Gibbert se kafee, af in Bo-Oranje, af in Oranje, af in Langstraat, af, af, af...tot ’n reuse-lorrie op die hoek van Langstraat en Dokweg ons pad versper. ’n Desperate pluk aan die stuurstang, ’n swenk na links en daar seil ons deur ’n vulstasie en rol stadig in Dokweg tot stilstand.

“Ons mooi ou stadjie – so mooi soos dit nooit weer sou wees nie – het aan ons behoort.

“In dieselfde tyd moes ons katkiseer. Ek leer hard aan die taai belydenisskrifte en kerkleer, Erni nie. Maar as die slimste kind in die skool kry hy al die moeilike vrae. Gelukkig vang sy skerp oor my sagte gefluister op en dra hy die antwoorde foutloos aan ds Jac Conradie oor.”

’n Ander geliefde plek uit sy Kaapse dae was Zeekoevlei. “Die lekkerste blyplek was nog Zeekoevlei. Óp die water.”

Oor Zeekoevlei en The Wind in the Willows van Kenneth Grahame vertel hy aan Die Burger van 31 Mei 2012: “Ek is self ’n watermens, gebore in die teken van die Vis. Die vakansiehuis wat ek in Zeekoevlei gekoop het, het ek mettertyd my vaste verblyf gemaak. Daar kon ek die vreugdes van Die Wind in die Wilgers herleef, met byna altyd twee of drie bote op die grasperk tussen die boothuis en die vleioewer.

“Ek kon eiehandig ’n L-vormige aanlegsteier bou, die kort beentjie van die L verborge agter papirus en spaansriet,van die huis af onsigbaar. ’n Getimmerde bankie op daardie kort beentjie was die plek waar ek en menige naweek-besoeker kon gaan sit om weg te kom. En oor die vlei uit te kyk. Te mediteer. Te droom. En soms ’n traan te stort.

The Wind in the Willows het in 1908 verskyn. Dit verteenwoordig vir my die Eduardiaanse era, die onskuldige tyd voor die Europese amper-selfmoord van twee verskriklike wêreldoorloë. Dit was ook die tyd toe my ouers jonk, energiek en verlief was, die tyd van hul huwelik en eerste kinders. Ek is te laat gebore om daardie tyd te ken. Grahame se boek help my om iets daarvan terug te roep.”

Drie vroue het die blaaie van kinderboeke vir Leon oopgeslaan: sy ma met haar kinder- en volksrympies, Helena JF Lochner en Enid Blyton met haar Sunny Stories.

Hy het tot standerd 6 (vandag graad 8) aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Kloofstraat, Kaapstad skoolgegaan en is daarna vir twee jaar na die koshuis van die Hoërskool Gimnasium in die Paarl. Hy keer terug na die Hoërskool Jan van Riebeeck vir standerd 9 en 10, waar hy die Senior Sertifikaat-eksamen in 1947 in die eerste klas slaag.

Verdere studies en werk

Ná skool is Leon na die Universiteit van Kaapstad, waar hy sy BA-graad aan die einde van 1950 behaal. “Op ’n foto van 1950 verskyn Erni en ek in togas saam met sy broer, Johannes, sy suster, Marie, en Mutti. Erni se pa was toe al oorlede en dit was vier jaar voor my pa se dood. Dit was vir my ouers seker moeilik om die gradedag by te woon. Tog is dié foto vir my simbolies van die mate waarin Mutti my aangeneem het.” (Die Burger, 5 Maart 2011)

Hy vertrek hierna na die Universiteit van die Witwatersrand om tandheelkunde te studeer, maar ná vier maande staak hy hierdie studie en sluit in Junie 1951 by die redaksie van Die Burger in Kaapstad aan, waar hy beurtelings verslaggewer, vertaler, subredakteur en skrywer van die rubriek “Van alle kante” was.

In Oktober 1956 verlaat hy die diens van Die Burger om onafhanklike joernalis, skrywer en uitgewersmedewerker te word. Die tyd toe hy vryskutwerk gedoen het, beskryf Leon as “die mees ontspanne jaar van my lewe. Ek het vir elke dag ’n kwota gestel en dit elke dag afgehandel. Dit is die beste resep vir gemoedsrus.”

Leon is op 18 Desember 1954 getroud met Winifred Louise, die oudste kind van dr en mev CGW Schumann van Stellenbosch. Hulle het vier kinders gehad. In 1977 is Leon en Winifred geskei. Hy is later getroud met Narieka Strauss Pienaar en een kind is uit hierdie huwelik gebore.

In Kaapstad het Leon op ’n stadium in Leinster Hall gebly. Dit is ’n herehuis wat lank in die besit van die beroemde Hofmeyr-familie was en is in 1983 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Oor die ontstaan van Human & Rousseau het Leon met die uitgewery se vyftigste verjaarsdag vertel (Beeld, 14 Maart 2009): “Ek was ’n redaksielid van Die Burger in Kaapstad, ’n jeugdige 25. Die ewe jeugdige Koos Human, wat weldra my vennoot sou word, het in dieselfde jaar uit die destydse Transvaal na die Kaap gekom om by Nasboek te werk. Dit was destyds die uitgewersafdeling van Naspers (vandag Media 24).

“Ek en Koos was nie onmiddellik van mekaar bewus nie, want daar was min kontak tussen Die Burger in Keeromstraat en die uitgewery in die Tygerberg.

“In daardie jaar het ek dit in my kop gekry om by Die Burger te bedank en vryskut te word. My kollegas het min hoop vir my planne gesien. Op my laaste werkdag het ons hoofsub, Willem Wepener, ’n spotprentjie geplaas waarin ’n netjies-geklede man aan ’n verflenterde bedelaar iets sê soos: ‘Dag, ou Leon, en hoe gaan dit met jou nuwe boek?’

“Meer deur geluk as wysheid het ek toe al ’n huis en ’n vrou gehad. Die huis was Rugbyweg 7, heel bo teen die berg in Oranjezicht. Die dennebome van Tafelberg het trouens in ons agtertuin begin. Ek het £3 600 vir die baie eenvoudige en beknopte huisie betaal, maar die uitsig was na my skatting £3 000 werd. Dus somtotaal, soos Dirk Opperman graag gesê het, nie ’n slegte koop nie. Hier het ek ywerig met ’n nuwe Fritz Deelman-boek begin, elke dag op my ou Underwood ’n hoofstuk getik en die boek binne ’n maand voltooi. Dit was waarskynlik Fritz Deelman en die Swart Eiland.

“Enter Koos Human. Die eerste outeurskontrak is nog deur George Minnaar na Die Burger gebring vir my om te onderteken, maar hy is in 1956 deur die jeugdige Koos Human as hoof van Nasboek se afdeling algemene publikasies opgevolg. Alles het in daardie dae op presies die regte tyd gebeur. Ek het gou besef ek het nou met ’n professional te doen. Sy bynaam in uitgewerskringe, The Boy Wonder, was nie onvanpas nie. Koos het my belangrik laat voel deur in eie persoon kontrakte en pas-gepubliseerde boeke na my huis te bring. Hy het daardie jaar reeds twee Fritz Deelmans laat verskyn. Ons het dadelik gekliek en gou vriende geword. Van toe af het die lang skraal wit Ford met die lang, ekstra-skraal Koos Human agter die stuur, meer dikwels voor Rugbyweg 7 kom stilhou.

“As vryskut moes ek meer doen as skryf. Spoedig ontvang ek van JD Pretorius, hoof van Tafelberg-Uitgewers, wat toe hoofsaaklik boekklub- en slapbandboeke uitgegee het, ’n manuskrip deur ene Gerrie Radlof om te sub. Dit was die skuilnaam van Gerrit van Zyl, nou lankal dood, maar toe in Tamboerskloof woonagtig. Hy was die skrywer van die Buiter-boeke en baie ander. Na ek die manuskrip nagesien het, nooi ek die skrywer om my veranderings oor ’n drankie in die Café Royal te kom bespreek. My kasboek uit daardie dae wys van tyd tot tyd ‘Drankies, 7/6’. [Nota vir moderne lesers: “7/6” beteken “7 sjielings en 6 pennies” in die “ou taal”.]

“Gerrit was ’n fenomeen. Hy kon homself op ’n Vrydagaand in sy werkkamer toesluit, gewapen met ’n bandopnemer (dit was ’n Grundig), en iets vir die dors, en teen Sondagaand ’n boek klaar dikteer. Hy word hier genoem omdat hy die ontstaan van die firma Human & Rousseau help moontlik maak het.

“As jy 25 of 26 is, sien jy vir baie kans. Na ’n ruk besluit ek en Gerrit om saam ’n onderneming te begin. So gesê so gedaan. Gerrit bedank by African Homes Trust om voltyds te skryf, ek koop vir £100, as ek reg onthou, ’n bankrot persagentskap, Afritopics, by ene Nico van Rensburg. Ons verander die naam in die Uniale Persdiens en ek vestig dit in twee kantore in die Volkskas-gebou in Adderleystraat. Gerrit het tuis gewerk.

“Min kon ek toe droom dat dié kantore binne twee jaar deur ’n nuwe firma, Human & Rousseau, beset sou word. Na ’n ruk koop ek Gerrit van Zyl uit, en teen Koos Human se tweede jaar by Nasboek is ek die alleeneienaar van Uniale Persdiens. Die firma het sy geld gemaak deur buitelandse foto’s en artikels aan plaaslike blaaie te verkoop, aangevul deur my vryskutwerk.

“Vroeg in 1958 word Koos Human deur ’n aantreklike aanbod na ’n ander uitgewery, die Afrikaanse Pers Bpk van Johannesburg, gelok, maar na nege maande kon hy dit skaars meer daar uithou.

“As gevolg hiervan kry ek op ’n dag uit die noorde ’n oproep van hom. Hoe lyk dit, vra hy, wil jy nie saam met my ’n uitgewery begin nie? Dit was die grootste kompliment wat ek ooit kon kry.

“Vroeg in 1959 trek hy toe by die twee kantore in Adderleystraat in. Hoe ons ingepas het, onthou ek nie mooi nie, want ons was vier: ek en Koos, my sekretaresse, Helena Thiart van Windhoek (sy het dadelik ons albei se sekretaresse geword), en Ebrahim Petersen van Distrik 6, ons bode. Ebrahim het ’n kleurryke Kaapse Afrikaans gepraat wat vir Koos Human seker nuut was. Hy het sy vrou, vir al wat ek weet ’n lankmoedige vrou, teenoor ons beskryf as ‘die vrietende kanker’.

“Koos Human was ’n bietjie soos Odusseus van ouds. Hy het altyd ’n plan gehad. Gedagtig aan die nuwe firma se beperkte middele het hy idees saamgebring vir verskeie dun maar nogal elegante boekies waarvan klein oplae gedruk kon word. Van die heel eerste een, The Last Division deur Anthony Delius, byvoorbeeld, is 1 000 eksemplare deur Tulp van Zwolle in Nederland gedruk. Die toegespykerde kis met die hele oplaag is by Koos-hulle se huis in Kampsbaai afgelewer en oopgemaak in wat destyds die bediendekamer genoem is.

“Van kapitaal was daar geen sprake en geen sent nie. Alles moes uit Uniale Persdiens se inkomste kom. En terwyl die firma my, my vrou en ons eerste baba tevore ’n gerieflike inkomste besorg het, kon dit met moeite twee vennote en hul gesinne onderhou. Boonop moes ons nog boeke laat druk, voorskotte betaal, omslae laat ontwerp, manuskripte laat nasien. So is die Human & Rousseau-boompie ’n halwe eeu gelede geplant. Dit was swaar tye, broekskeurtye, maar onvergeetlik – en ja, ook heerlik.”

En Human & Rousseau het later ’n huishoudelike naam in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf geword en sou uiteindelik verantwoordelik wees vir ’n groot aantal belangrike publikasies, onder meer die werk van die Sestigers.

By Human & Rousseau het Leon veral uitgeblink as uitgewer van kinderboeke. Onder sy leiding was die uitgewery se kinderboekafdeling oor ’n lang tydperk die grootste in die land en hy het sowel plaaslik as in Europa hoë aansien as kinderboekuitgewer geniet.

Leon se eerste boek was Fritz Deelman en die Swart Eiland, die eerste titel van agt in die immergroen, gewilde Fritz Deelman-reeks. Verskeie van die Fritz Deelman-boeke is ook in Nederlands vertaal en het by Kluitman van Alkmaar verskyn. Die reeks is ook in 2004 en 2005 in sagteband heruitgegee.

Leon se Fritz Deelman en die Skepe van Mars is geskryf lank voordat Joeri Gagarin die eerste ruimtereis onderneem het. Dit het dus duidelik geblyk dat Leon amper sy tyd vooruit was wat tegnologiese ontwikkelings betref. “En sy sin vir humor en waarnemings was só in die kol dat dit maklik verby 2004 kan weerklink,” skryf Francois Smith in Die Burger, 3 Mei 2004.

Leon se “pedagogiese streep” wat in Storieman na vore kom, is ook in die Fritz Deelman-reeks te vinde. Saam met Fritz reis die jong lesers na verskillende wêrelddele, beleef avonture in Tibet, aan die Suidpool, in die Sahara en selfs diep onder die oppervlak van die see. Die Skepe van Mars het aanvanklik as ’n vervolgverhaal in die destydse Die Jongspan verskyn. Koos Human het hom aangepor om ’n boekreeks te skryf – “twintig boeke as jy wil”. “Maar jy moet vir Fritz ’n nooi gee,” het Koos aangeraai. (Die Burger, 3 Mei 2004)

Leon se inspirasie vir die reeks het gekom van die jeugboeke wat hy as kind gelees het: Boy’s Own, Gem en Magnet. “So het ek Engels geleer. En in dié boeke kom die helde nie naby die meisies nie.” (Die Burger, 3 Mei 2004)

Vir die skryf van wetenskapfiksie in Afrikaans is hy veral geïnspireer deur August van Oordt se Seuns van die wolke, en hy het ’n besondere liefde vir dié genre, vir Isaac Asimov, Arthur C Clark en Ray Bradbury.

Oor die oorsprong van die naam Fritz Deelman vertel Leon aan Francois Smith (Die Burger, 3 Mei 2004): “Miskien het die Duits avontuurlik en robuust geklink. Maar ek onthou dat Louis Hiemstra, destyds Die Burger se hoof-taaladviseur, beswaar gemaak het dat Fritz met ’n ‘z’ geskryf word. Dis onafrikaans, het hy gesê. Ek en Koos Human het groot genot daaruit geput.”

Oor die kwessie dat Fritz nooit verder as luitenant bevorder is nie, verduidelik Leon aan Smith dat daar ’n generaal Heyns moes wees wat bevele gee. “Die res van die resep behels ’n magtige skurk en avonture in ’n vreemde en nuwe omgewing. Nuwe lesers sal miskien meer van die latere boeke hou, maar as jy by die eerstes begin, is daar ten minste genoeg aksie.”

En Leon het geen twyfel dat Fritz hom in die nuwe Suid-Afrika sou kon aanpas nie: “Fritz Deelman is altyd aanpasbaar.”

Hy is ook nie bekommerd dat van die tegnologiese voorspellings en fantasievlugte agter die klip sou raak nie: “Heelwat daarvan is nie te sleg voorspel nie. Eers onlangs is vasgestel dat Mars skeure het wat vier keer so diep soos die Grand Canyon is. Miskien is daar nie lewe in nie, maar wie weet ...”

Oor die heruitgawes van die agt Fritz Deelman-boeke in 2004 en 2005 is Leon baie bly. Hy was aanvanklik bang dat die stories uit die 1950’s te dooierig sou wees vir die hedendaagse kind, maar party titels het reeds herdrukke beleef en is vir skoolgebruik goedgekeur. Die tydgees moes natuurlik ’n bietjie verander.

Hy het ook twee lewensromans vir die jeug geskryf, naamlik Die Florentyn, wat die verhaal van Leonardo da Vinci vertel, en Marco Polo van Venesië.

Leon was in sy loopbaan verantwoordelik vir ’n groot aantal vertalings en verwerkings van veral kinderboeke. Op hierdie gebied het hy oorspronklike en semi-oorspronklike werk gelewer, soos Ou Tante Koba, Die mens begeer maar altyd meer, Die Kaapse vlek enDie bruilof van die voëls. Die ryme in hierdie boeke en in ’n hele klomp ander is later versamel in Rympies vir kleuters en Rympies vir kinders, Leon se versameling tradisionele Afrikaanse volksryme en sy pogings om klassieke Duitse, Engelse en Nederlandse ryme in dieselfde styl te herskep.

Leon se bekendste werk is sekerlik Die groot verlange, die lewensverhaal van Eugène N Marais wat in 1974 gepubliseer is. Dit is in 1975 met die destydse CNA-prys bekroon. Volgens JC Kannemeyer in Die Afrikaanse literatuur het Leon hiermee ’n unieke bydrae op die gebied van die biografie in Afrikaans gelewer. Hy het die werk later in Engels vertaal onder die titel The dark stream.

Die idee om ’n boek oor Eugène Marais te skryf het reeds in sy standerd 9-jaar ontstaan (aan Murray la Vita, Die Burger, 14 September 2012). “In standerd nege het ek Lust for Life, die verhaal van Van Gogh deur Irving Stone, gelees. En ons het ook die gedigte van Marais gehad as ’n voorgeskrewe werk en daar was ’n baie prikkelende ... foutief, maar baie prikkelende, lewensketsie van Marais in die boek. En ek het toe die idee gekry: magtie, maar ek sal eendag graag so ’n boek soos Lust for Life oor Marais in Afrikaans wil maak.”

Dit was eers in 1961 toe Leon Robert Ardrey se African Genesis, wat aan Marais opgedra was, gelees het, dat hy weer aan sy storie oor Eugène Marais begin dink het.

Hierdie kennismaking was die begin van twaalf jaar van navorsing oor die lewe van Marais en die tyd waarin hy gelewe het. Met behulp van ’n subsidie wat hy van ’n petroleummaatskappy ontvang het, het Leon op Marais se spore teruggegaan na Londen, waar hy gedurende die Boere-oorlog gewoon het, en na Duitsland. Hy het ook ’n hele ruk in die Waterberge deurgebring en onderhoude met ongeveer honderd persone in Pretoria gevoer.

Dit het begin as ’n roman, maar Leon het later besluit dat die materiaal meer geskik is vir ’n biografie. In ’n onderhoud met Pretoria News het Leon gesê dit is wat hy graag noem ’n “imaginative biography”.

Leon is destyds op soveel maniere gekeer om Die groot verlange te skryf dat dit later na meer as toeval begin lyk het, vertel hy aan Hanlie Retief in Rapport, van 5 April 2009: “Een skemeraand in 1963 het ek tussen die bome op die plaas Rietfontein gestap. Dis waar Marais ’n groot deel van sy agt jaar in die Waterberg gebly het. Skielik kon ek ’n teenwoordigheid voel. Ek kon niks sien of hoor nie, maar die boodskap was duidelik: Bly weg! Hou op!”

Hy was skaars terug in die Kaap toe hy amper in ’n noodlottige motorongeluk was. ’n Senuwee in sy linkerarm is afgesny en hy kon nooit weer behoorlik tik nie. Die boek het eers twaalf jaar later verskyn. “Maar dit het my kans gegee om ryper te word. Ek het toe meer insig gehad.”

Die groot verlange was die duisendste boek wat Human & Rousseau uitgegee het om die vyftiende bestaansjaar van die firma te vier. Leon het self die boek as sy “eerste voetstap in grootmensliteratuur” beskryf. En dit het ’n geweldige mate van spanning, energie en wilskrag gekos om dit klaar te maak.

André P Brink het in Rapport (5 Januarie 1975) geskryf: “Ons het in ons taal op die terrein van lewensbeskrywing nog nie ’n werk van hierdie omvang, tegelyk in breedte en in diepte, opgelewer nie. Die hoofindruk wat die boek by die leser laat, is juis sy meevoerende vloei, en ’n verbysterende hoeveelheid en verskeidenheid materiaal word op ’n merkwaardig vlotte manier hier geïntegreer om nie net die beeld van ’n individu te herskep nie, maar hom volledig binne die raamwerk van sy tyd, nasionaal en internasionaal, te ‘plaas’.

Vir Brink is Rousseau se grootste prestasie waarskynlik hierdie vermoë om Marais in konteks te ontgin: “teenoor die Europees-Engelse 19de-eeuse tradisie in kuns, lettere en wetenskap; teenoor die geskiedkundige prosesse en strominge van die Zuid-Afrikaanse Republiek en die jong Unie; teenoor die ontplooiende taalbewegings; teenoor wêreldontwikkelinge op die gebied van literatuur, psigologie en die eksakte wetenskappe. Nooit verslap Rousseau se greep op sy stof nie; nooit neem die intrinsieke spanning af nie. En hoewel ek sekere voorbehoude en kritiek het, is Die groot verlange ’n formidabele werk en op sy terrein en uit eie reg is die boek ’n mylpaal in ons literatuur.”

Vir PM (Volksblad, 17 Desember 1974) is Die groot verlange in baie opsigte ’n model-biografie: “omvattend, deeglik nagevors, genadeloos eerlik, boeiend, dikwels aangrypend, en bowenal vlot geskryf, met ’n besonder fyn aanvoeling vir die omgewing en die tydsgees van ’n bepaalde periode.

“En die skrywer het nie alleen ’n deernis met en begrip vir die komplekse Marais verraai nie, maar dra dit aan die leser oor deur hom ook die tye, plekke en invloede te laat voel. Hoewel die biografie betreklik lywig is, lees dit so glad soos ’n besonder goedgeskrewe roman, omdat dit soos ’n klassieke tragedie onstuitbaar voortsnel na die onvermydelike einde.”

In 1977 het Koos Human en Leon hul uitgewery aan Nasionale Pers verkoop. Twee jaar later het Leon as medehoofbestuurder van Human & Rousseau bedank. In 2009 het hy dit beskryf as sy grootste fout om weg te gaan by Human & Rousseau weens ’n “onenigheid tussen my en Koos”. Hy is bitter spyt oor dié “breuk en verlies”, veral die verlies van Koos Human se breë kennis en finansiële insig. Maar gelukkig is daardie vriendskap weer waterdig. ( Rapport, van 5 April 2009)

Leon begewe hom in 1992 met sy ’n Toevlug in die Weste op die gebied van die politiek. Hierin raak hy ’n teer snaar by baie Suid-Afrikaners aan, veral met die 1994-verkiesing destyds op hande: naamlik dié van ’n “billike verdeling van die land”. Leon is nie skaam om ’n Afrikaner genoem te word nie en hy was reeds vanaf die jare sestig teen die destydse apartheidsbeleid, en in ’n Toevlug in die Weste vra hy vrae oor of ’n eenheidstaat soos dit afgehandel is, wenslik is. Hy doen aan die hand dat almal met ’n Wes-Kaapse oorsprong, wat alle Afrikaanssprekendes insluit, hul heil eerder soek in een of twee outonome state in die weste van die land. (Theuns van der Westhuizen, Die Burger, 29 Maart 1994)

In Mei 1982 het Leon ’n nuwe uitgewery, Rubicon, op die been gebring. Die firma se bekendste publikasies is Storieman, StorieMuis en Storytime, elkeen ’n reeks wat bestaan uit 30 kassette en 30 boeke. In 2004 is die reeks aangepas en is Storieman ook op CD gepubliseer. Van die reeks is reeds 35 000 eksemplare verkoop en dit beleef sy sewende druk.

Hieroor vertel Leon: “Dit was die eerste keer dat ’n kind ’n boek kon lees en na die klank luister – eers bande en toe later CD’s. En nou het Human & Rousseau, baie gepas eintlik, dit oorgeneem en hulle het ’n baie mooi uitgawe gemaak, aan Murray la Vita (Die Burger, 14 September 2012).

’n Storieman Omnibus wat ’n versameling bevat van die oorspronklike verhale, het in 2012 verskyn. Dit sluit in plaaslike verhale soos “Van Hunks en sy pyp”, en “Wolraad Woltemade”, asook die klassieke “Brolloks en Bittergal” en “Jakkals en Wolf”-stories, en sprokies soos “Die Drie Varkies” en “Gouelokkies”. ’n Tweede omnibus verskyn in Oktober 2012 en nog een in April 2013.

Aan La Vita: “Ouers het vir my gesê hulle kinders kan nie hierdie vinnige tempo van die lees volg nie, want ek het beweer baie jong kinders kán dit volg. Toe het ek na hulle geluister en StorieMuis uitgegee so agt jaar later wat vir die heel jong kinders bedoel is.”

Storieman Omnibus is op albei genders gemik en met hierdie reeks het Leon ’n geleentheid gesien om die kind baie vroeg, reeds van so twee af, in lees te laat belangstel en ’n liefde daarvoor by hom te kweek. “Hoewel dit ongetwyfeld waar is dat die oudiovisuele benadering die leeftyd waarop kinders ’n storie verstaan en waardeer, dramaties verlaag, was dit tog ’n bietjie vroeg. Vir daardie groep het ek later StorieMuis uitgegee. In die praktyk was die ouderdomsgroepe kleuters (drie tot ses) en voortieners (tot so 12), hoewel baie ouer kinders dit ook geniet het”, aan Naomi Meyer op LitNet.

In 1980 het Leon ’n kwaai hartaanval oorleef en het sy huisarts aan een van sy kinders genoem dat hy dalk nog net vyf jaar het om te leef. Vandag is hy diep dankbaar vir daardie ekstra 20 plus jare wat hom gegun is, en nie net daarvoor nie, maar ook vir die lewe self met sy soet, suur, bitter en al.

Hy publiseer ook Per 80, ’n gedenkalbum vir sy broer Pierre. Eugène Marais and the Darwin syndrome en Die dowwe spoor van Eugène Marais is aanvanklik as twee boeke uitgegee, maar in 1998 verskyn dit in een boekdeel, met ’n hersiene uitgawe in 2000.

Leon vertaal in 2005 die eerste twee boeke in die baie gewilde A series of unfortunate events van Lemony Snicket in Afrikaans onder die titels Die bose begin en Die reptielkamer.

In April 2005 verhuis Leon na Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. En tans bly hy vir die eerste keer in sy lewe ver van die see. Die liefde het hom Pretoria toe laat trek, na die digter Marié Blomerus. Sy wou nie Jeffreysbaai toe verhuis nie, dus is hy noorde toe.

Hulle het mekaar 30 jaar vantevore by die Skrywersgilde ontmoet, en ná haar man se dood het hulle paaie weer gekruis. In Oktober 2008 is hulle in ’n seremonie by haar huis in Mossiestraat getroud.

In 2006 verskyn Die groot avontuur oor die ontstaan en ontwikkeling van lewe op aarde, met ’n voorwoord deur Gideon Joubert, die skrywer van Die groot gedagte. In hierdie werk soek Leon onder meer gronde vir sy opvatting omtrent die “akwatiese aap”, oftewel ’n teorie dat die mens deur ’n waterfase gegaan het. Op ’n onbewuste wyse was Fritz Deelman reeds ’n voorloper hiervan. “’n Hele paar van die agt Fritz Deelman-boeke speel onder water af,” sê Leon aan Francois Smith. “Miskien het dit ook daarmee te make dat my sterreteken die vis is.”

Die Matie-argeoloë Hilary en Janette Deacon se boek Human beginnings in South Africa (1999) was vir Leon die belangrikste aansporing om Die groot avontuur te skryf, vertel Leon aan Fred Pheiffer (Die Burger, 8 Maart 2006). “Dit het my belangstelling in die oergeskiedenis opnuut laat opvlam. Maar dit is iets wat al van ver kom. In die sestigerjare ontmoet ek Raymond Dart, wat my aan die woeste wêreld van Australopithecus, die Suider-aap, bekendstel, opvolger van Dart by Wits en eweneens wêreldberoemde Suider-aap-kenner. In 1971 skryf ek Professor Oer en sy diere vir kinders, en selfs Fritz Deelman het ’n draai gegooi by die mite van ’n versonke As uitgewer van sy boek oor die Boesmans leer ek ook vir Philip Tobias ken vasteland, Lemuria.”

Die groot avontuur is in 2007 met die Recht Malan-prys bekroon.

Andries Lategan skryf in Beeld (16 Oktober 2006) dat Rousseau twee take in Die groot avontuur aanpak: “eerstens wil hy die leke-lesers saamneem op sy eie geesdriftige leke-ontdekkingstog deur die oerwoud van teorieë en vertolkings oor hoe lewe op aarde ontstaan en ontwikkel het tot homo sapiens; tweedens wil hy die leser oortuig dat paleontologiese, biochemiese en neurologiese bevindings omtrent die ontwikkeling van die ondermaanse lewensvorme nie verklaar kan word sonder om soms die ingryp van ’n bonatuurlike intelligensie in die verloop van die natuurlike seleksie by te roep nie. Rousseau voer die eerste oor die algemeen helder en met insig uit, maar ek is minder seker of dieselfde gesê kan word oor sy ander selfopgelegde sendingtaak.”

In ’n artikel in Rapport van 12 April 2009 skryf George Claassen en Karel de Pauw dat Die groot avontuur voorgesit kan word as ’n goeie voorbeeld van ’n oningewyde wat nie genoeg navorsing gedoen het oor sy onderwerp nie. Rousseau se boek is ook “halfgebakte en onwetenskaplike idees wat hy aanhoudend in skryfsels en praatjies herhaal.”

Andries Lategan kritiseer ook vir Rousseau “oor die openbarende toevlug wat hy gereeld in sy boek by ’n intelligente ontwerper soek sodra hy iets nie begryp of kan verklaar nie”.

Die bekende Philip Tobias het ingestem om ’n voorwoord vir Die groot avontuur te skryf, maar nadat hy die finale gepubliseerde weergawe gelees het, het dit vir hom duidelik geword dat Leon Rousseau die pseudowetenskaplike konsep van Intelligente Ontwerp steun en in ’n brief aan Die Burger distansieer Tobias hom van daardie dele wat Intelligente Ontwerp ondersteun.

Leon skryf in ’n artikel in Rapport (7 Julie 2009) dat nadat hy The language of God van Francis Collins gelees het, hy besluit het “om a) my openlik van IO te distansieer en b) om my eie onbewysbare, maar ook onweerlegbare indrukke dat daar ’n groot mag agter die werkinge van die heelal moet wees, voortaan sorgvuldiger te skei van wat ek oor die wetenskap skryf. Oor my foutiewe indruk van IO toe ek Die groot avontuur geskryf het, voel ek behoorlik verleë.”

Oor waarmee hy tans besig is, vertel Leon (Die Burger, 10 Maart 2012): “Ek is besig om te werk aan Lalie se lekker liedjies saam met Lochner de Kock. Ons moet aan die einde van Maart 2012 die eerste CD voltooi, maar dis in drie luike met 20 liedjies elk – Lalie in Diereland, Lalie in Luilekkerland en Lalie in Kammaland. Dit sal in een pak verskyn wat ek ’n luisterkis noem. Van die lirieke is nuwe werk, maar baie daarvan is bestaande goed wat ek uit Engels of Duits neem en dan vertaal.”

Leon is ook nog nie klaar met die stig van nuwe sake met hoë ideale nie. Ongeveer 53 jaar nadat hy Human & Rousseau saam met Koos Human gestig het, het hy vir die vervaardiging, verspreiding en bemarking van Lalie saam met Lochner, die boekhandelaar Eddington Esterhuizen en die musiekregisseur Jahn Beukes, ’n nuwe “onderneminkie” in die lewe geroep: Leida. Hul embleem is ’n seuntjie op ’n swaan en die naam staan vir die vennote se name en vir Beukes se “Ateljee”. Dit sou dus logies Leda moes gewees het, maar daar was reeds verskeie ondernemings met die naam Leda, dus is ‘n i vir intelligensie toe bygevoeg. (Die Burger, 10 Maart 2012)

In 2011 blaas Leon ook nuwe lewe in die Jakkals en Wolf-verhale toe hy Die kaskenades van Jakkals en Wolf oorvertel en verwerk en die lig laat sien by LAPA-uitgewers. Die illustrasies is deur Johann Strauss gedoen. Human & Rousseau gee in dieselfde jaar Pieter W Grobbelaar se Jakkals en Wolf, met illustrasies deur Sean Verster, uit.

Hierdie twee boeke is elkeen op ’n verskillende teikenmark gemik. Vir Marlize Leyden is Die kaskenades van Jakkals en Wolf egter meer geskik om hierdie klassieke verhale aan ’n nuwe generasie lesers bekend te stel.

Oor die herkoms van die Jakkals en Wolf-stories vertel Leon in ’n brief aan Die Burger van 2 Februarie 2013: “Party van die Jakkals en Wolf-stories wat ons vandag ken, is reeds in die Middeleeue op skrif gestel, 800 jaar gelede, en daar is van hulle wat miskien nog ouer is. Dit was die tereg beroemde dr. Wilhelm Bleek wat reeds in 1864 met sy boek Reynard the Fox in South Africa te kenne gegee het dat verhale soortgelyk aan dié in die Middelnederlandse diere-epos Van den Vos Reinaerde (13de eeu) deur natuurvolke in Suid-Afrika vertel is.

“Die eerste Afrikaanse oorvertellings van hierdie inheemse stories was dié van GR von Wielligh in sy boek Dire storiis (soos deur Hottennots ferteld), wat in 1907 uitgegee is. Hierdie puik versameling kon egter beïnvloed gewees het deur die 185 dierestories wat in die 25 jaar tussen 1880 en 1905 in Joel Chandler Harris se agt Uncle Remus-boeke verskyn het. In Suid-Afrika, waar die belangstelling in die Amerikaanse Suide groot was, is dié boeke stellig druk gelees.”

Leon het sy navorsing na die Jakkals en Wolf-stories se oer-herkoms in sy boek se nawoord saamgevat: “Op grond van die omstandigheidsgetuienis wil ek die gissing waag dat ons Jakkals en Wolf-stories op die een of ander manier beïnvloed is deur Kaapse blankes wat vertroud was met die Uncle Remus-boeke en dieselfde of ander blankes wat die Reinaert-epos deur oorlewering of andersins geken het. Hierdie twee bronne kon deur ander aangevul gewees het.

“‘Slaan ysterklou in die grond, broer Wolf’ is wesenlik dieselfde storie as die Nederlandse volksverhaal wat in 1905 in die Nederlandse publikasie Volkskunde verskyn het. Die moontlike invloede wat ek noem, verminder nie die waarde van ons Jakkals en Wolf-verhaleskat nie. Alle volksverhale is oorvertellings of hervertellings van oorvertellings.” (Die Burger, 2 Februarie 2013)

Net ná die première van die langverwagte Die wonderwerker, Katinka Heyns en die draaiboekskrywer Chris Barnard se fliek oor Eugène Marais, is ’n stel van vier CD’s op 6 September 2012 bekend gestel waarin ’n verkorte weergawe van die biografie oor Marais, Die groot verlange, vertel en voorgelees word. Leon Rousseau sê dele van sy boek oor dié legendariese digter, skrywer, wetenskaplike, regsgeleerde, storieverteller en morfienverslaafde is deur die akteur Lochner de Kock voorgelees en word afgewissel met oorgange waarin vertel word hoe die storie verloop. ’n Klassieke simfonie is spesiaal vir die voorlesings deur Jahn Beukes gekomponeer. Die omslag bevat ’n pragfoto van Lettie, oftewel Aletta Beyers, Marais se vrou, wat op 21 – agt dae ná die geboorte van hul seuntjie – aan kraamkoors gesterf het.

Tydens die Woordfees van 2012 op Stellenbosch was daar ’n profielaanbieding van Leon Rousseau waartydens persone soos Dorothea van Zyl, Gerrit Brand en een van sy seuns, Chris, iets oor Leon en sy invloed gesê het. In die loop van die aanbieding is iets bevestig wat onveranderd gebly het aan Leon Rousseau se uiteenlopende bydraes tot Afrikaans en die letterkunde: hy dwing blywende respek af – of dit nou sy grootse biografie oor Eugène Marais is,Die groot verlange, die toekoms-aksie van die Fritz Deelman-reeks of die Storieman-boeke en -kassette en -CD’s. ( Die Burger, 7 Maart 2012)

Leon se nuwe boek, met die voorlopige titel Benjamin, Baäl en die bul van Basan, kyk na hoe die Bybel ons taal gevorm het. Oor sy nuwe boek sê Leon (Die Burger, 10 Maart 2012): “Ek het nou my deel gedoen. Nou moet die konsultante kyk, en hulle is verbaas, want ek het op baie plekke gesê die 1983-vertaling is minder poëties oftewel meer platvloers as die 1953-vertaling. ’n Mens kan mos nie eenvoudig ’n frase weggooi wat in die Lutherbybel, die Statenbijbel en selfs die King James voorkom nie. Neem nou, byvoorbeeld, ‘In die begin was die Woord’. Die 1983-vertaling sê (en dit bots met al die vorige vertalings): ‘In die begin was die Woord daar.’ Dis byna heiligskennis!”

Leon het nog altyd ten diepste omgegee vir die instandhouding en die skep van poëtiese woorde. Toe hy gevra is oor die allemintige hoeveelheid alliterasie in sy nuwe boektitel, antwoord hy met ’n nuutskepping en ’n sjarmante glimlag: “Ek noem dit ‘bryme’ – beginryme met ’n ‘b’.” (Die Burger, 10 Maart 2012)

 

Leon Rousseau is op 24 Februarie 2016 ná 'n kort siekbed in die ouderdom van 84 oorlede.

Publikasies

Publikasie

Fritz Deelman en die Swart Eiland

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1960
  • 1978
  • 2004

ISBN

  • (hb)
  • 0624005615 (hb)
  • 0798143949 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Fritz Deelman en die skepe van Mars

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1990
  • 2004

ISBN

  • 0624029190 (sb)
  • 0798143949 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1960

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fritz Deelman en die Suidpoolbende

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1961
  • 2005

ISBN

  • (hb)
  • 0798144033 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1962

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fritz Deelman en die groen dood

Publikasiedatum

  • 1958
  • 2005

ISBN

  • (hb)
  • 0798144114 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Marco Polo van Venesië: sy merkwaardige reis na die Verre Ooste

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fritz Deelman en die diepsee-duikbol

Publikasiedatum

  • 1958
  • 2004

ISBN

  • (hb)
  • 0798144041 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1968

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Florentyn: die verhaal van Leonardo da Vinci

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1960
  • 1964
  • 1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engelse vertaling Oxford University Press 1962

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fritz Deelman en die Gori Lama

Publikasiedatum

  • 1959
  • 2005

ISBN

  • (hb)
  • 0798144106 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fritz Deelman en die woestynrowers

Publikasiedatum

  • 1960
  • 2004

ISBN

  • (hb)
  • 0798144254 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die koue gevaar

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1977

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fritz Deelman en die ondersese myn

Publikasiedatum

  • 1963
  • 2005

ISBN

  • (hb)
  • 0798144246 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeug-avontuurverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1962

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Van Hunks en sy pyp: ’n oorvertelling van ’n ou sprokie

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kindersprokies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die diere-ABC

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die rottevanger van Hamelin

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kindersprokies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Professor Oer en sy diere

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ou Tante Koba

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderversies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vet kat: ’n Deense sprokie

Publikasiedatum

1972

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kindersprokies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die historie van Dolle Daan: Afrikaanse beryming

Publikasiedatum

1972

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Roussaeu

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die mens begeer maar altyd meer: ’n ou Afrikaanse volksrympie

Publikasiedatum

1972

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bruilof van die voëls

Publikasiedatum

1973

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die groot verlange: die verhaal van Eugène N Marais

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1979
  • 1984
  • 2006 (hersiene uitgawe)

ISBN

  • 0798104686 (hb)
  • 0798109696 (hb)
  • 0798118202 (hb)
  • 1869191048 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

CNA-prys 1974

Vertalings

Engelse vertaling The dark stream 1982

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ondankbare slang: ’n ou Afrikaanse volksverhaal

Publikasiedatum

1975

ISBN

0798101687 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Volksverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Herelandgoed

Publikasiedatum

1976

ISBN

0798105534 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pinocchio in die pekel: nuwe verhale, met die karakters van die gewilde TV-reeks

Publikasiedatum

1979

ISBN

079810998X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pinocchio loop weg: nuwe verhale, met die karakters van die gewilde TV-reeks

Publikasiedatum

1979

ISBN

0798110007 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pinocchio op see: : nuwe verhale, met die karakters van die gewilde TV-reeks

Publikasiedatum

1979

ISBN

0798109998 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pinocchio en sy vriende: nuwe verhale, met die karakters van die gewilde TV-reeks

Publikasiedatum

1979

ISBN

0798109971 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Per 80 – gedenkalbum P Etienne Rousseau 1990–1990

Publikasiedatum

1990

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Rubicon

Literêre vorm

Gedenkalbum

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Toevlug in die weste

Publikasiedatum

1992

ISBN

1874869545 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Rubicon

Literêre vorm

Sosiale geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Eugène Marais and the Darwin syndrome / Die dowwe spoor van Eugène Marais

Publikasiedatum

2000

ISBN

1919825290 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die groot avontuur: wondere van die lewe op aarde

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146508 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Wetenskap

Pryse toegeken

Recht Malan-prys 2007

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die kaskenades van Jakkals en Wolf

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799349648 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Leon Rousseau as samesteller:

Leon Rousseau as redakteur:

Leon Rousseau as vertaler:

  • My sustertjie is twaalf voet hoog: lawwe stories, rympies en raaisels uit baie lande. Kaapstad: Human & Rousseau, 1973 [ISBN 0798101660 (hb)]
  • 101 rympies. Saam met DJ Opperman, Elizabeth van der Merwe en Pieter W Grobbelaar. Kaapstad: Human & Rousseau,, 1982, 1988, 1995 [ISBN 0798106840 (hb)]
  • Anno, Mitsoemasa: Die koning se blom. Kaapstad: Human & Rousseau, 1979 [ISBN 0798109181 (hb)]
  • Apsley, Brenda: Die drie musketiers. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798111542 (hb)]
  • Aubin, Michael: Karolus die luilekker koning. Kaapstad: Rubicon, 1990 [ISBN 0947006915 (hb)]
  • Bemelmans, Ludwig: Madeleine se redding. Kaapstad: Human & Rousseau, 1972
  • Berson, Harold: Josef en die slang. Kaapstad: Human & Rousseau, 1980 [ISBN 0798110589 (hb)]
  • Biro, Val: Vonkie: die avonture van ’n jaarkar. Kaapstad: Human & Rousseau, 1976 [ISBN 0798105089 (hb)]
  • Bonsall, Crosby: Hoegenaamd niks. Kaapstad: Human & Rousseau, 1970
  • Bouman, PJ: Revolusie van die eensames: Spieëlbeeld van ’n tydperk. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1958
  • Bright, Robert: Kalie. Kaapstad: Human & Rousseau, 1967
  • Bruijn, Cor: Odusseus die groot swerwer. Kaapstad: Naweekpos, 1964
  • Bucknall, Caroline:
    • ’n Beer op die foto. Kaapstad: Rubicon, 1988 [ISBN 0947006524 (hb)]
    • Een beer stokalleen. Kaapstad: Rubicon, 1988 [ISBN 0947006516 (hb)]
    • ’n Beer in die hospitaal. Kaapstad: Rubicon, 1990 [ISBN 09547006877 (hb)]
    • Carnegie, Dale: Die kort en maklike pad na effektiewe redevoering. Roodepoort: Baanbreker, 19- 
    • Collins, Larry en Lapierre, Dominique: Die vyfde ruiter. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798111097 (hb)]
    • Coran, Pierre: Die langtand bewer. Kaapstad: Rubicon, 1990 [ISBN 0947006893 (hb)]
    • Cornwall, IW: Die wording van die mens. Kaapstad: Human & Rousseau, 1964
    • Counhaye, Guy: Die koulike ysbeer. Kaapstad, Rubicon, 1990 [ISBN 0947006907 (sb)]
    • Dahl, Roald:
    • Kalie Emmer en die sjokoladefabriek. Kaapstad: Tafelberg, 1981 [ISBN 0624015580 (hb)]
    • Marius se merkwaardige medisyne. Kaapstad: Human & Rousseau, 1982, 2005 [ISBN 0798114517 (hb); 079814534X (sb)]
    • Dawson, AJ: Finn die wolfhond. Kaapstad: John Malherbe, 1964
    • Dickens, Charles: ’n Kerssang in prosa. Kaapstad: Human & Rousseau, 1964
    • Dr Seuss:
    • Duvoisin, Roger: Helde van die horison. Kaapstad: Human & Rousseau, 1964
    • Eastman, PD: Ry, hond, ry! Kaapstad: Human & Rousseau, 1975 [ISBN 0798102543 (hb)]
    • Falconer, Elizabeth: Die huis van Koos Delport: ’n Rebus-boek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1990 [ISBN 0798126671 (hb)]
    • Firmin, Peter: Karel Kwas kampeer. Kaapstad: Human & Rousseau, 1972
    • Flack, Marjorie: Die avonture van Ping. Kaapstad: Human & Rousseau, 1967
    • Frankel, Alona: Van kroontjie tot toontjie. Johannesburg: Perskor, 1982 [ISBN 062802245X (hb)]
    • Friskey, Margaret: Tweevoetjies en sy arendveer. Kaapstad: Human & Rousseau, 197-  [ISBN 0798104236 (hb)]
    • Galdone, Paul:
    • Tom, Tom Pyperseun. Kaapstad: Human & Rousseau, 1973 [ISBN 0798105167 (hb)
    • Die tafel, die esel en die stok. Kaapstad: Human & Rousseau, 1978 [ISBN 07981087789 (hb)]
    • Graves, Robert: Die groen boek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1975 [ISBN 0798105828 (hb)]
    • Greaves, AF: Tombi en die watergees. Kaapstad: Human & Rousseau, 1980 [ISBN 0798110226 (hb)]
    • Hall, Amanda: Katrina Losbek: ’n ou Russiese volksverhaal. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798112034 (hb)]
    • Hansen, Ole en Annette Bering Liisberg: Oom Gom se 1000 stories. Kaapstad: Rubicon/Voorsprong-Pers, 1993 [ISBN 1874869367 (hb)]
    • Harvey, Amanda: Brame in die winter. Kaapstad: Rubicon, 1991 [ISBN 1874869014 (hb)]
    • Hoff, Syd: Dirk en die dinosourus. Kaapstad: Human & Rousseau, 1972
    • Hopwood, Clive:
    • Goudskepe op die Spaanse see. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798111550 (hb)]
    • Davy Crockett. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798111534 (hb)]
    • Hurd, Edith Thatcher: Jannie Leeu se boek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1969
    • Hurkos, Peter: Sesde sintuig. Pretoria: HAUM, 1962
    • Inkpen, Mike:
    • Ek wil ’n skaap hê. Kaapstad: Rubicon, 1988 [ISBN 0947006532 (hb)]
    • Ek wil ’n vark hê. Kaapstad: Rubicon, 1988. [ISBN 0947006540 (hb)]
    • Janosch:
    • Ai, hoe mooi is dit in Panama. Kaapstad: Tafelberg, 1980 [ISBN 0624013839 (hb)]
    • Die grootste geluk op aarde. Kaapstad: Tafelberg, 1980 [ISBN 0624013847 (hb)]
    • Pos vir die tiertjie: hoe die beertjie en die tiertjie landpos, lugpos en die telefoon uitgevind het. Kaapstad: Tafelberg, 1981 [ISBN 0624016773 (hb)]
    • Jensen, Borge: Hoeveel eiers kan die reus eet? Kaapstad: Human & Rousseau, 1975 [ISBN 07981003078 (hb)]
    • Kaufmann, Herbert: Die verlore karavaanpad. Kaapstad: Human & Rousseau, 1962
    • Kennedy, Richard: Kom in die lente weer. Kaapstad: Human & Rousseau, 1976 [ISBN 0798107618 (hb)]
    • Lasker, Joe: Lang jare saam: die verhaal van twee Middeleeuse huwelike. Kaapstad: Human & Rousseau, 1977 [ISBN 0798107340 (hb)]
    • Leitner, Irving A: ’n Koppie soos ’n peer. Kaapstad: Human & Rousseau, 1978 [ISBN 0798107995 (hb)]
    • London, Jack: White Fang die wolfhond. Pretoria: Van Schaik, 1959; Kaapstad: Human & Rousseau, 2005 [ISBN 0798145552 (sb)]
    • McNaughton, Colin: As kat en hond soos drake was. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798111526 (hb)]
    • Monjo, FN: Uile in die woud. Kaapstad: Human & Rousseau, 1974 [ISBN 079810404X (hb)]
    • Mons, Martin: Moord op ’n minister. Kaapstad: Human & Rousseau, 1962
    • Myrick, Mildred: Die klub van drie. Kaapstad: Human & Rousseau, 1975 [ISBN 079810578X (hb)]
    • Nordhoff, Charles Hall en James Norman: Die muitery op die Bounty. Pretoria: Van Schaik, 1963
    • Ofek, Uriel: Rook oor die Golan-hoogland. Kaapstad: Human & Rousseau, 1980 [ISBN 0798110759 (hb)]
    • Pakenham, Thomas: Die Boere-oorlog. Johannesburg: Jonathan Ball, 1981 [ISBN 086850033X (hb)]
    • Pearce, Philippa: Die stryd om Huts en Pots. Kaapstad: Human & Rousseau, 1980 [ISBN 0798110996 (hb)]
    • Provensen, Alice: ’n Uil en drie snorre. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 079811116X (hb)]
    • Reader, Karin S: Meneer Ratel kom kuier. Kaapstad: Human & Rousseau, 1977 [ISBN 0798107324 (hb)]
    • Reit, S: Ek leer kleure ken. Kaapstad: Human & Rousseau, 1973 [ISBN 0798102713 (hb)]
    • Richardson, Anthony: ’n Man en sy hond. Kaapstad: HAUM, 1962
    • Ryan, Cornelius: Die langste dag. 6 Junie 1944. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1960
    • Rydberg, Viktor: Tomten. Kaapstad: Human & Rousseau, 1967
    • Scarry, Richard:
    • My eerste lekkerlag woordeboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1974 [ISBN 0798103655 (hb)]
    • By die diere. Kaapstad: Human & Rousseau, 1976 [ISBN 0798106360 (hb)]
    • Seed, Jenny: Die jaar een. Kaapstad: Human & Rousseau, [ISBN 0798110163 (hb)]
    • Shapiro, Irwin: Andries en die draak. Kaapstad: Human & Rousseau, 1978 [ISBN 0798108002 (hb)]
    • Simons, Phillida Brooke: Suid-Afrikaanse avontuurverhale. Kaapstad: Struik, 1988 [ISBN 086977672X (hb)]
    • Snicket, Lemony:
    • Die bose begin. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 0798143681 (sb)]
    • Die reptielkamer. Kaapstad: Human & Rousseau, 2004 [ISBN 079814369X (sb)]
    • Stobbs, William: Ou Moeder Gans en die goue eier: ’n tradisioneel Engelse volksrympie. Kaapstad: Human & Rousseau, 1977 [ISBN 0798107677 (hb)]
    • Stone, Bernard: ’n Dag om te onthou. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0798111577 (hb)]
    • Van der Heide, Willy:
    • Drie seuns op ’n onbewoonde eiland. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel, 1961
    • Avonture in die Stille Suidsee. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1961
    • Die stryd om die goudskip. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 196-
    • Verne, Jules: ’n Reis na die middelpunt van die aarde. Kaapstad: Tafelberg, 1958
    • Walpole, Ellen Wales: My eerste tweetalige woordeboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 1987, 1993 [ISBN 0798116994 (hb); 0798131055 (sb)]
    • Young, Hilda: Robin Hood en sir Guy de Gisborne. Kaapstad: Human & Rousseau, 1981 [ISBN 0789111569 (hb)]
    • Young, Ruth:
    • My kombers. Kaapstad: Rubicon, 1991 [ISBN 0947006516 (hb)]
    • My babawagter. Kaapstad: Rubicon, 1991 [ISBN 0947006915 (hb)]
    • Die nuwe baba. Kaapstad: Rubicon, 1991 [ISBN 0947006540 (hb)]
    • Zolotow, Charlotte: As die wind gaan lê. Kaapstad: Human & Rousseau, 1977 [ISBN 0798107588 (hb)]

Artikels oor Leon Rousseau beskikbaar op die internet:

Artikels deur Leon Rousseau beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Bygewerk: 2014-06-07

Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

 

The post Leon Rousseau (1931–2016) appeared first on LitNet.

AD Keet (1888–1972)

$
0
0
adkeet300

Sêgoed van AD Keet

“As daar iets is waarna ek opsetlik strewe, dan is dit eenvoud. Soos die Ierse skrywer dit gestel het: ‘The discrete simplicity which is so hard to reach.’”

“Die grondstof waarmee die digter werk, is nie net blote woorde nie: hy het gevoel, verstand, verbeelding en veral inspirasie nodig – inspirasie of intuïsie wat vir hom sê: ‘So moet jy jou woorde rangskik en nie anders nie.’”

“Die eis aan die digter is sag maar onverbiddelik. Die beloning is dat hy wat bedeeld is met hierdie talente, soos ’n begenadigde, ’n bevoorregte voel wat ’n roeping het om te vervul.”

“As ek net een reël in Afrikaans geskryf het, wat sal voortleef, is ek tevrede.”

In 1970 oor die modern poësie: “Hulle is veels te serebraal. Hul werke sê te min en bykans niks steek vas nie en gevolglik ontbreek ontroering. Die Sestigers probeer net skok en sleep gevolglik te veel seks by hul werke in.”

“My kunssin is iets wat aan my gegee is en die digter moet dankbaar wees teenoor Iemand. Die mens wat aan geen godheid glo nie, is dwaas en kortsigtig.”

“Myns insiens is dit noodlottig as die een digter die ander kritiseer.”

“O vra my nie my liefde,/ Ek het dit weggegee/ Aan 'n kleine koringblommetjie/ En aan die grote see.” (“Ek hou van blou” uit Gedigte, Swets en Zeitlinger, 1931)

Gebore en getoë

Albertus Daniel Keet is op 14 Oktober 1888 op Alice in die Oos-Kaap gebore. Hy was die jongste seun van ds BB Keet, die eerste Nederduitse Gereformeerde predikant van Kimberley en later ook op Alice en Humansdorp, en ’n broer van BB Keet, ‘n Bybelvertaler en professor aan die Kweekskool aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het ook nog drie ander broers en drie susters gehad.

Sy moeder was ’n suster van Albertus J Herholdt, minister van landbou in die Schreiner-kabinet wat saam met Schreiner die Kaapkolonie verteenwoordig het by die historiese Kruger-Steyn-Milner-konferensie in Bloemfontein in 1899.

As jongste moes hy menigmaal aan die kortste ent trek. Hy en sy broer BB Keet het byvoorbeeld as kinders by ’n watergat gespeel, toe sy broer hom in die water stamp. Hy kon nie swem nie, het byna verdrink en moes met veel gespartel self die kant bereik.

AD Keet is vir nege maande na Muir Kollege op Uitenhage, waar hy goed bevriend geraak het met sy klasmaat, Sam Hobson, een van die Hobson-broers.

Hy het in 1905 aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná matriek is hy na die Universiteit van Kaapstad, waar hy hom as ’n BA-student ingeskryf het. In 1908 het hy sy graad behaal met wysbegeerte, Engels, Latyn, Grieks, Nederlands en Duits as vakke. Sy onderrig was meestal in Engels. Hy het ’n eerste plek in honneurs filosofie by die Kaapse Universiteitseksamens behaal.

AD Keet het hierna in ’n mediese rigting begin belangstel en het besluit om Nederland toe te gaan om hom daar verder te bekwaam. In April 1909 het hy aan boord van die Duitse skip die Burgermeister na Europa vertrek. Dit was juis in daardie tyd dat die Tweede Afrikaanse Taalbeweging met digters soos Marais, Celliers, Totius en Leipoldt tot stand gekom het.

Die hele Europa was tydens AD Keet se verblyf daar in die greep van die Eerste Wêreldoorlog, en hoewel Nederland neutraal in die stryd gestaan het, was honger ly aan die orde van die dag.

In Nederland het AD Keet hom die eerste keer aan die digkuns gewaag. Hy het aanvanklik sy gedigte in Engels geskryf, maar later na Afrikaans oorgeslaan. Dit was ook hier waar sy bekende gedig “Muskiete-jag” in sy losieshuiskamer geskryf is.

Omdat sy gedigte inherent oor ’n groot mate van musikaliteit besit, is meer as 30 daarvan dan ook getoonset – party van hulle deur meer as een komponis. Talle van die gedigte wat hy geskryf het, is in Nederland en Vlaandere deur bekende komponiste daar, onder andere Emile Hullebroeck, Hendrik C van Oort en Cornelis Dopper, getoonset – ’n voorbeeld wat later deur mense soos S le Roux Marais, MC Roode en ML de Villiers gevolg is. Van sy gedigte wat etlike kere getoonset is, is “As saans”, “Kinderlied”, “Klaas Vakie”, “Maar een Suid-Afrika”, “Moeder” en “Sonnedaal”.

Ná voltooiing van sy mediese studie in 1918 het hy ’n pos as huisdokter in die Stedelike Hospitaal in Arnhem, op die grens met Duitsland, aanvaar, saam met dr BJ Havenga, broer van die oudminister. Hulle hoofdokter is aan griep oorlede en hulle twee moes toe feitlik alleen die leiding oorneem van daardie hospitaal en verskeie ander noodhospitale in Arnhem. Hy het nog by daardie hospitaal gewerk toe daar in 1919 ’n vryheidsdeputasie uit Suid-Afrika na die vredesluiting in Versailles gestuur is. Keet is toe deur dr WJ Leyds genader om as sekretaris van die afvaardiging op te tree en na ‘n groot gesukkel het hy daarin geslaag om los te kom uit die kontrak met die hospitaal.

Die dag waarop die afvaardiging in Rotterdam sou aankom, was AD Keet, vergesel van prof Bodenstein en nog sowat 20 ander Afrikaners, daar om hulle te verwelkom. Daar moes die verwelkomingskomitee ontdek dat adv EG Jansen en Daantjie Wolmarans aan boord was en dat hulle nagelaat het om te laat weet dat hulle reeds ’n sekretaris aangestel het. “En daar sit ek toe sonder ‘job’,” vertel Keet aan Anina Roux in Hoofstad van 25 Maart 1971.

In 1919 is Keet getroud met Nell van der Poll. Hy en Nell, wat ook ’n mediese dokter was, het drie kinders gehad: ’n seun en twee dogters. Die oudste seun is ’n dokter, die oudste dogter is ’n kinderspesialis (met ’n dokter getroud), terwyl die tweede dogter ’n sielkundige is en ook met ’n sielkundige getroud is.

Tydens sy verblyf in Nederland het hy ook so ’n ietsie van die joernalistiek ervaar. “Ek het ’n bietjie baie nodige sakgeld daarmee verdien deur aan die grootste koerante, soos Dietsche StemmenDe Toorts en De Nieuwe Rotterdamsche Courant, in Nederland bydraes te stuur oor Suid-Afrikaanse politiek en kulturele sake” – aan Anina Roux. Hy was tot in 1926 die Suid-Afrikaanse korrespondent van De Nieuwe Rotterdamsche Courant. Hy moes elke tweede week ’n lang brief aan die koerant skryf. Omdat hy later te besig was, kon hy nie daarmee aangaan nie.

Uit sy briewe wat opgeneem is in AD Keet aan die woord: ’n skakel met die Lae Lande, blyk dit duidelik hoe goed Suid-Afrikaners se kontak met Vlaminge en Nederlanders was. Op ’n kongres van die Algemeen Nederlandse Studenteverbond moes Keet namens die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners praat en ná die toespraak het die Vlaamse studente opgestaan om glasies met hom te klink. Hy skryf in 1914 ’n brief aan Die Brandwag: “Ik hoor nog die refrein van meer dan één studenteliedjie. Als ik so die pragtige Vlaamse liedere hoor, als ik hulle toneelspelers sien, als ik mij midde in hul beskawing vind, dan voel ik als Groot-Nederlander trots, maar als Afrikaner ook ’n beetjie jaloers, moet ik erken. Wanneer bring ons dit nog ééndag so ver? Maar ons is nog maar jong …”

In Nederland het Keet ook aktief aan sport deelgeneem en voetbal en krieket gespeel. Dit was op die sportveld dat hy kennis gemaak het met die Nederlandse Tagtigerdigter Herman Gorter, wat self ’n geesdriftige krieketspeler was. Voorts het hy hom lewendig vir die saak van Afrikaans in Nederland beywer en met die bekende Vlaminge Modest Lauwerijs, Emil Hullebroeck en René de Clerq bevriend geraak. Op aanmoediging van Keet het Lauwerijs Afrikaans aangeleer en Suid-Afrika twee maal (1920 en 1933) besoek.

Gedurende sy verblyf in Nederland het Keet ook rugby gespeel en hy het vertel van die eerste drie in Amsterdam. “Dit was toe twee Suid-Afrikaanse studentespanne in ’n vertoonwedstryd in Amsterdam teen mekaar gespeel het. Die veld was ’n modderbad en dit het maar swaar gegaan. Totdat die Springbok Stevie Joubert ’n gaping slaan en gly-gly deurglip en die bal aan my gee. En die eerste drie word op Hollandse bodem geplant” (aan Roux).

Met die Keet-egpaar se terugkeer na Suid-Afrika is hulle na Humansdorp. Daar het twee telegramme op hulle gewag waarin die Nasionale Pers aan Keet die redakteurskap van Die Volksblad aangebied het. Dit was toe Die Volksblad twee keer per week verskyn het, maar Keet is die versekering gegee dat dit spoedig ’n dagblad sou word. Salaris: R120 per maand. “Ek het aangebied (dit was in Desember 1919) om hulle te help net tot die algemene verkiesing in Maart 1920, maar hulle het toe iemand anders gekry. Nou ja, ná langdurige mediese studie en baie skuld, het ek nie kans gesien vir die ‘job’ nie.”

Hy het ’n mediese praktyk op Senekal in die Vrystaat gekoop, waar hy vanaf 1920 onafgebroke as dokter gepraktiseer het en ook vir ’n geruime tyd distriksgeneesheer was. Hy het in 1969 afgetree.

AD Keet se vader was predikant op Humansdorp en die familie Keet het elke jaar saam op die naburige Jeffreysbaai vakansie gehou. Terwyl AD Keet een jaar daar was, het hy van ’n plaas naby hierdie kusdorp te hore gekom en hy het dit in 1926 gekoop. Kort nadat hy dit gekoop het, het hy besef dat die skulpgruis op dele van die plaas van ’n besonder hoë gehalte was. Hy het sy sakebelange mettertyd in daardie rigting uitgebrei en selfs koöperasies het later baie sakke van die skulpgruis, wat veral vir voël- en hoenderboerdery gebruik is, bestel.

Hy het sowat 20 jaar van die skulpgruis verkoop, maar in die laat 1960’s, toe sake begin skaars word het, het hy dié bron van inkomste laat vaar kort voordat hy die plaas in 1970 vir meer as ’n miljoen rand verkoop het. Hierdie plaas is later ontwikkel tot die woonbuurt Wavecrest in Jeffreysbaai.

AD Keet se eerste digbundel, Gedigte, het in 1920 verskyn en het ses herdrukke beleef. Byna al die gedigte wat in die bundel opgeneem is, het toe reeds in tydskrifte soos die ou BrandwagOns Moedertaal en Die Huisgenoot verskyn. Dit het natuurlik sonder vergoeding geskied; soos hy gesê het: “Dit was net vir die begeerte en drang om iets by te dra tot die opbou van ons volk se leesstof.”

Een van Keet se bekendste gedigte, wat feitlik elke Afrikaanssprekende kind van die 20ste eeu geken het, is “Muskiete-jag”. Hy het dit in Nederland geskryf toe ’n yslike muskiet hom so kwaad gemaak het dat hy hom gejaag het totdat hy hom teen die muur vermorsel het. Die reëls van die gedig het hom skielik te binne geval en hy het dadelik na ’n flentertjie papier gegryp – hy was geneig om sy gedigte op stukkies papier, sigaretdosies of koerantpapier neer te skryf – en die reëls neergeskryf.

Die “held” in die gedig is ene Van der Merwe. “Die naam is net gekies omdat ek eerste daaraan gedink het, en dit goed in die rym gepas het.”

Die langste gedig wat hy geskryf het, is “Twee boodskappers”. WJ Leyds het hom gevra om die gedig te skryf na aanleiding van ’n foto van ’n groep Boeremeisies, onder wie die dogter van genl De la Rey, wat met ’n Vierkleur dans nadat hulle die verkeerde boodskap gekry het dat die Boere die oorlog gewen het. AD Keet het lank met die foto in Amsterdam rondgeloop. Een oggend in die trem op pad na die universiteit het hy skielik aan ’n gedig gedink. En dadelik het hy langs die rand van die koerant wat hy by hom gehad het, die reëls neergeskryf. Hierdie gedig is ook later in Gedigte van AD Keet opgeneem. 

Keet kan beskou word as die baanbreker van die Afrikaanse minnepoësie. Hy was die eerste Afrikaanse digter wat sy liefde so sober en tog ook so teer kon vertolk. Een van sy mooiste liefdesgedigte is, volgens Anina Roux, “Ek hou van blou”, waarin die fynheid van klank en siening opval.

In Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Band 2 het JC Kannemeyer die volgende oor Keet se Gedigte geskryf: “Die bundel word tematies verdeel in vier rubrieke, wat agtereenvolgens natuurverse, gedigte oor die ‘lewe’, liefdesverse en vaderlandse poësie bevat. In die vaderlandse gedigte sit hy die tradisie van Celliers voort en met ’n kragtige vers soos ‘Maar een Suid-Afrika’ voer hy in die Afrikaanse poësie die ‘gee my’-kultus in, wat later deur Leipoldt en ID du Plessis verder voortgesit is. Oor die algemeen is sy liefdesverse sangerig, heel dikwels met ’n afwisseling van die kort en lang reël. Terwyl sy natuurgedigte konkrete beelding mis en soms deur die katalogisering en die ‘waar’-konstruksie in die sinsbou aan Leipoldt herinner.

“Met verse soos ‘Amsterdam’, ’n geestige gedig soos ‘Muskiete-jag’ en die talle toonsettings van sy tekste deur Vlaamse komponiste soos Hullebroeck het hy ook in Nederland en België ’n bekendheid en gewildheid verwerf wat buite alle verhouding tot die intrinsieke waarde van sy poësie is. In die meeste gedigte hinder die retoriese beeldspraak en swak woordkeuse, en op die lange duur word die triviale boustof en die beperktheid van die wêreld en emosies ’n belangrike beswaar teen die bundel. Sy beste werk lewer hy met enkele fyn verwoorde waarnemings, wat ’n voorspel is op die vroeë Dertig, ’n paar eenvoudige liefdesverse (‘Ek hou van blou’) en enkele gedigte waarin daar sprake van verset is (‘Weemoed’).”

In Die Huisgenoot (Augustus 1920) het L van Niekerk geskryf dat die treffendste kenmerk van Gedigte van AD Keet die eenvoud en klaarheid daarvan is. "Dit is eienskappe wat nou nie juis op hulleself die hoogste artistisiteit waarborg nie, maar wat tog altyd ’n onderdeel vorm van alle ware kuns. Keet is ’n gevoelige persoonlikheid wat sy aandoeninge in soetvloeiende verse uit.

AD Keet was ook bekend as iemand wat baie lief vir kinders was en hulle baie goed verstaan het. Hierdie insig wat hy in kinders se wêreld gehad het, blyk duidelik uit sy bundel Verspotte gediggies vir verspotte kinders wat in 1931 verskyn het en aan die kinders van Kroonstad opgedra is. In die voorwoord het hy die "verspotte uitgelatenheid" wat so baie maal ’n kenmerk is van kinders se lewens gehuldig.Hoe goed hy kinders verstaan het, het veral geblyk uit die gediggie “Kindertaal”, wat ’n kind se begrip van gister, vandag en môre weergee: “Môre het ek daar gewees/ Gister sal ek gaan –/ En die mooiste is dat jy wat lees/ Hierdie taal verstaan!”

AD Keet was ook iemand wat baie diep emosies geopenbaar het en nêrens anders kom dit duideliker na vore as in die gedigte wat hy geskryf het ná sy vrou Nell se dood aan kanker op 32-jarige leeftyd op 16 Oktober 1932 nie.Die liefde en verering wat hy vir haar gehad het, het duidelik uit die gedigte geblyk. Om haar nagedagtenis te laat voortleef, het hy met die finansiële hulp van familie en vriende 300 eksemplare van ’n bundel, In memoriam, dr Nell C Keet, laat druk. Dit was die enigste oplaag hiervan wat ooit gedruk is.

In sy liefdesgedigte was Nell die figuur wat sentraal gestaan het en dít wat hy vir haar gevoel het, kan met een woord uitgedruk word: aanbidding. Die verse in die gedenkbundel spreek duidelik van sy diepe weemoed en hartseer na haar dood.

AD Keet is later* weer getroud, met Catharina (Rina) van der Merwe, ’n suster van die bekende historikus van Stellenbosch, PJ van der Merwe. Drie dogters is uit die huwelik gebore: Rosa, ook ’n bekende digter, Ellen, ’n limeriek-skrywer, en Carina.

Keet het baie in die beeldende kunste belanggestel en onder meer werke besit van Anton van Wouw (die bekende beelde Slegte Nuus), Hugo Naudé, JH Pierneef, Erich Mayer, Sydney Carter, Stefan Apenberger en Tinus de Jongh. Hy was ’n aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het teen die einde van sy lewe erelidmaatskap van die Akademie ontvang. Hy het ook erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring ontvang.

In briewe het die jong Keet geskryf dat hy die Nederlandse Tagtiger-digters soos Perk, Kloos en Gorter “verslind” het: “Almal se werke was vir my soos ’n frisse seelug na die deftige akademiese bedompigheid van Kaapstad. (…) En toe kom die wonderwerk – die geboorte van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, ons eie, mooi sêgoed. Wat ’n onverwagte openbaring van skoonheid. Wat ’n verbluffende originaliteit – Marais, Celliers, Totius en Malherbe nog enigsins herinnerend aan hulle Europese leermeesters, maar Leipoldt ‘met albei pote’ op Suid-Afrikaanse bodem.”

AD Keet kon vlot Nederlands, Afrikaans en Engels praat en heel moontlik ook Duits. Hy was baie geïnteresseerd in geloof, asook in die wetenskap. In 1969 het hy in ’n brief aan C de Jong oor sy eie digkuns geskryf: “Ek besef maar alte goed dat ek nie een van die grootste Afrikaanse digters is nie!” Desnieteenstaande was sy gedigte baie gewild en volgens alle aanduidings het dit baie mense geraak.

Keet, se oudste seun, AD Keet jr, gee in 2004 ’n boek uit getiteld AD Keet aan die woord: ’n skakel met die Lae Lande. Ena Jansen (Die Burger, 16 Desember 2004) skryf dat dit duidelik blyk uit die boek dat AD Keet die tien gelukkigste jare van sy lewe in Amsterdam deurgebring het toe hy tussen 1909 en 1919 daar gestudeer het. "Hy was ’n sentrale figuur in die invloedryke Suid-Afrikaanse Studentevereniging in Amsterdam. Daar is talle verwysings uit dié tyd na vriende soos Petronella van Heerden, Frans Karel te Water Naudé, Theo Wassenaar en Ben Havenga."

Keet se digkuns was baie kenmerkend van die digters van die Twintigergeslag, veral die stemmingskarakter van sy gedigte. Sy liefdesgedigte was ’n nuwe klank in die Afrikaanse digkuns van daardie jare, hoewel sy verse nie so openhartig was soos die digters van die dertigerjare se poësie nie. Nog ’n vernuwing in sy verse is die ligte rebelsheid wat veral in sy bekende gedig "Weemoed" aangetref word, al het hy dit in die slot gestel dat hy berus in God se wil. Hy kan gesien word as ’n voorloper van die Dertigers, veral in sy bewustheid van sy digterskap. Hy het ook natuurgedigte geskryf en die beteres op hierdie gebied was dié gedigte wat op mense betrekking gehad het. Sy patriotiese verse bevat ’n optimisme wat hom van die Driemanskap en Eugène Marais onderskei.

Op Saterdagaand 12 Februarie 1972 is AD Keet in sy huis op Senekal oorlede. Hy het die vorige week ’n hartaanval gekry en daarna in ’n koma verkeer. Sy gesondheid het tien jaar vantevore agteruit begin gaan en sy vrou van 32 jaar, Rina, het hom versorg.

Huldeblyke

  • PJ Nienaber: "Hy was ’n beminlike en minsame mens wat geen kwaad in iemand anders gesien het nie. Hy was altyd ’n heer teenoor sy medemens, teenoor sy meerdere, teenoor sy mindere en liefdevol teenoor vrou en kinders. Daar was altyd ’n glimlag in sy oë, want hy het ’n fyn humorsin gehad en ’n onuitputlike bron van geestighede en grappies. Keet was nie ’n digter met ’n gekompliseerde gemoedslewe nie, en hy het ook nie gestrewe na grootse kuns nie. Krag, sterkte, sterk momente sal ons nie in sy poësie vind nie, maar heel dikwels bevalligheid, bekoorlikheid en ’n hoë mate van sangerigheid. Hy het ook sterk vaderlandse gedigte geskryf." (Volksblad, 14 Februarie 1972)
  • Gerhard Beukes: "AD Keet was ’n egte en opregte mens. So was sy gedigte ook – sonder pretensie." (Volksblad, 14 Februarie 1972)

Publikasies:

Publikasie

Jan Celliers als digter en denker

Publikasiedatum

1917

ISBN

(hb)

Uitgewer

Utrecht (Nederland): Uitgeverij Dietsche Stemmen

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Gedigte van AD Keet

Publikasiedatum

  • 1920
  • 1922
  • 1925
  • 1926
  • 1932

ISBN

(hb)

Uitgewer

Amsterdam: Swets & Zeitlinger

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verspotte gediggies vir verspotte kinders

Publikasiedatum

  • 1931
  • 1935

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Pretoria: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderversies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Boeke oor AD Keet:

Artikels oor en deur AD Keet beskikbaar op die internet:

* In die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek word vermeld dat AD Keet in 1939 die tweede keer getroud is met Dorothea Johanna Dreyer, en dat Catharina van der Merwe sy derde vrou was. Dit is egter al bron waar dit genoem is.

Bronne:

  • Kannemeyer, JC. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band 2. Pretoria: Academica.
  • Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Deel V. Pretoria: RGN, 1987
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post AD Keet (1888–1972) appeared first on LitNet.

Arthur Nuthall Fula (1908–1966)

$
0
0

Gebore en getoë

Arthur Nuthall Fula is op 16 Mei 1908 in Oos-Londen gebore. Die gesin het in 1910 na die Rand getrek en het na ’n paar omswerwinge op George Goch in Johannesburg gaan bly. Fula het in hierdie gebied in aanraking gekom met ’n stadsomgewing wat veeltalig was, maar nog belangriker, met Afrikaans.

Hy het sy eerste skoolopvoeding aan die Siemert School for Coloureds gekry en het aldaar sy vorm IV-eksamen geslaag.

Verdere studie en werk

Ná sy skooljare het hy verder studeer aan die Eurafrican Normal College, maar sy familie het geldelike probleme ondervind en hy is as gevolg daarvan  genoodsaak om sy studies te staak.

Hy het dus in 1925 as ’n klerk in die hospitaal van die Wolhuter-goudmyn begin werk en het later ’n mynarbeider geword.

Die werk het hom egter nie geval nie en Fula het besluit om ’n ambag as meubelmaker te loop. Ná ’n opleiding van twee jaar het hy vir 15 jaar as ’n meubelmaker gewerk, maar ongelukkig het hierdie besigheid finansieel nie die paal gehaal nie. Hy het daarna sy eie besigheid begin, maar dit het ook nie die pyp gerook nie.

Op die skutblad van Jôhannie giet die beeld word vertel dat Fula se “belangstelling in die welvaart van sy medemens en sy begeerte om hulle lyding te versag” hom daartoe dryf “om weer te begin studeer”. Hy het deur middel van die St John-organisasie begin studeer en het sertifikate in huisverpleging, eerstehulp en die voorkoming van ongelukke verwerf.

Vanweë die uitsonderlike talent en aanleg wat hy vir tale getoon het, kan hy beskryf word as ’n poliglot. Hy het Frans by die Alliance Française geleer en benewens Frans en Xhosa (sy moedertaal) was hy ook Afrikaans, Engels, Zoeloe, Sotho, Tswana en Pedi magtig.

Ná die ongelukkige afloop van sy meubelbesigheid was Fula vir ’n wyle werkloos. Hy het egter daarna as ’n tolk in die Johannesburgse landdroshof begin werk – meer spesifiek in die egskeidingshof. In Volksblad van 25 Mei 1966 het ’n hooftolk by die hof gesê dat Fula hom altyd van die ander tolke afgesonder het en nooit saam met hulle kaart gespeel of gedobbel het nie. "Hy is ook beskou as een van die beleefdste Bantoetolke in die gebou, asook ’n besonderlike mens. Hy was baie belese en het vir my dinge wat in die wêreld aangegaan het, vertel waarvan ek self nie geweet het nie."

Gedurende etenstyd in die hof kon jy gereeld vir Arthur Fula in ’n leë kamertjie in die hof kry waar hy op sy siter musiek gemaak en gesing het van "Pola Sitandwa", van ’n ou man wat op ’n jong meisie verlief geraak het, asook van "Tandiwe", van ’n meisie wat haar geliefde afgesê het. Hy het as jong man die siter by sy huis leer speel en het self die liedjies gekomponeer. (Die Transvaler, 11 Oktober 1955)

In Mei 1966 sterf Arthur Fula in Johannesburg na ’n beroerte-aanval. Hy laat ’n vrou en vyf kinders agter.

Fula skryf aanvanklik in Engels, maar kry nie ’n uitgewer vir sy werk nie. Hy het egter vas geglo in en vertrou op sy skryfwerk en dít nieteenstaande sy eie swaarkry en die spot van die "baie geleerde Bantoes" wat weet te vertel het dat "die Boere tog nooit iets sal laat druk wat ’n Bantoe geskryf het nie". Dit was ook nie sy rasgenote wat hom aangemoedig het om te skryf nie. Wat hy nie in Engels kon regkry nie, het toe in Afrikaans gebeur toe Jôhannie giet die beeld in 1954 deur die Afrikaanse Persboekhandel uitgegee is.

Die roman het onmiddellik aandag getrek en heelwat bespreking in die dagpers sowel as in populêre en literêre tydskrifte uitgelok. Fula se uitgewer het die volgende redes gegee vir die opgewondenheid rondom hierdie “unieke” teks: “1) Dit is deur ’n Bantoe geskryf; 2) Dit is in Afrikaans geskryf en 3) Dit staan op ’n redelik hoë peil … Dis ’n roman wat die blanke leser nooit sal vergeet nie – ’n roman deur ’n Bantoe in Afrikaans!”

Ten spyte van hierdie gloeiende voorspelling het die naam van Arthur Fula ongelukkig in vergetelheid verval. (Hein Willlemse, Stilet, September 1992)

Jôhannie giet die beeld vertel die verhaal van twee jong mans, Maringo en Karlos, wat na Johannesburg (Jôhannie) kom om in die myne te werk. Hier kom hulle in aanraking met en ontmoet verskeie persone wat die uiteenlopendheid van die stadslewe uitbeeld: Khaifasi, godsdienstige leiers; Herculano en Mronga, toonbeelde van sukses wat oneerlik behaal is. Aanvanklik word Maringo en Karlos verlei deur Herculano en Mronga se sukses en Karlos beland in die tronk, terwyl Maringo terugkom van die dwaalweë af, hom na die Khaifasi wend en ’n voorbeeldige lewe lei.

Volgens Hein Willemse in sy artikel “‘Mens sou nie ’n Bantoe as skrywer vermoed nie’ of Arthur Fula se welwillende Afrikaans: ’n Eerste verkenning van Jôhannie giet die beeld” in Stilet van September 1992 skep Fula ’n “geïdealiseerde romanwêreld – ’n woordwêreld waarin tydgenootlike sosiale behoeftes, die sosiale uitreiking en die politieke onderstrominge resoneer of wat simboliese oplossings vir sodanige strydvrae bied. Aanvanklik word die resepsie van Jôhannie giet die beeld as ’n Afrikaanse roman en betekenis wat aan dié gegewe geheg word, ondersoek; daarna word die roman bespreek in dialogiese verhouding tot ander soortgelyke romans en die belang van aspekte van die spesifieke subgenre soos 'die stad', 'Christene' en sosiale magverhoudinge tussen wit en swart mense.”

In Die Huisvrou van 17 Augustus 1954 skryf Kobus van Zyl: “Hoewel dit geen letterkundige werk is nie, behoort dit gewild te wees as ’n avontuurverhaal met ’n goeie strekking. As sodanig kan ’n mens dit effens bo die gemiddelde Afrikaanse boek van sy soort plaas. Fula is ’n goeie verteller en daar is min vervelige oomblikke in sy storie.”

In Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1954 skryf Abel Coetzee soos volg oor Jôhannie giet die beeld: “[Ons het] hier ’n gevormde Bantoe, wat na rype oorleg besluit het om sy verhaal juis in Afrikaans te skryf. Deur daardie bewuste keuse van medium het Fula hom gerig, nie tot die buiteland waar tans ’n soort sentimentele belangstelling in rasseverhoudings gebotvier word nie, en ook nie tot dié deel van sy eie stam wat nog in die stamgebiede woon en nie die probleme en die vreemde taal ken nie, maar regstreeks tot alle Afrikaanssprekendes. Maatskaplik is dit ’n oorweging van die grootste betekenis: ’n Bantoe wat hom oor sy eie volk wend tot die Afrikaner. … Plaas ons dan die roman binne die raamwerk van die Afrikaanse romankuns, waar dit tuishoort, dan vind dit sy eweknie onder dié romans wat meer as ’n geslagtydperk gelede geskryf is met die boodskap: Terug plaas toe! In die stad lê die verval! En ons dink aan JJ Lub en GR von Wielligh. Die verskil is egter dat ons hier te doen kry met ’n goed gevormde Afrikaans en ’n mensbeelding waar die didaktiese nie so swaar opgeplak is nie. Daarby moet egter gesê word dat Fula romantegnies tot voordeel in die leer kan gaan by sy Afrikaanse tydgenote, en dat sy Afrikaans, as beeldende stylmiddel, nog heelwat aan soepelheid mis in vergelyking met byvoorbeeld die taalaanwending van PJ Schoeman en GH Franz – almal punte wat in ’n tweede en derde en volgende roman bygewerk kan word. Hoofsaak is hier dat ons ’n roman het waarvan die Afrikaans keurig versorg is, en wat ons ’n goeie insig gee in die maatskaplike probleme van ’n groep tyd- en landgenote waaraan ons ons gewoonlik weinig steur. Dat Fula ons oë oopgemaak het vir hierdie probleem, is ongetwyfeld die grootste verdienste van sy werk.”

Na sy debuutroman publiseer Fula ongereeld gedigte en kortverhale. In 1957 verskyn sy tweede roman, Met erbarming, o Here, ook by Afrikaanse Persboekhandel. In 1956 word Jôhannie giet die beeld in Duits gepubliseer as Im Goldenen Labyrinth, en in 1984 in Engels as The golden magnet, vertaal deur Carrol Lasker. Van sy gedigte is in Duits en Russies vertaal en opgeneem in ’n bloemlesing getiteld Südafrikaner Erzählen. Daar is ongeverifieerde berigte dat daar nog manuskripte van Fula bestaan.

Hein Willemse skryf in sy artikel dat Jôhannie ook in Sotho en Zoeloe vertaal is, maar hy kon dit ook nie verifieer nie.

Peter Sulzer het in 1965 in ’n ongepubliseerde manuskrip geskryf dat nog ’n roman van Fula, Dogter van die Zoeloe, en twee kortverhale, "Matsiliso van Phomolong" en "Ulindipisi" ("Runderpes”), in manuskripvorm bestaan, terwyl ’n ander verhaal, "Dominee Kalashe", alleenlik in die Duitse vertaling beskikbaar is.

Volgens ’n brief wat Arthur Fula op 26 Februarie 1957 aan mev JP van der Merwe geskryf het, was daar nog twee werke van hom, Die lotgevalle van ’n naturelle-skrywer, en in Xhosa, Lahliwe, maar Willemse kon dit ook nie verifieer nie.

Met die publikasie van Jôhannie giet die beeld het SJ Marais van APB aan The Star (15 Januarie 1954) gesê: "The work is something of a literary sensation. Critics to whom we sent the manuscript end proofs in all parts of the country hail it as a rare and remarkable event in Afrikaans literature.

"It is a powerful story of contemporary native life written in a rich and compelling Afrikaans which is well above the average Afrikaans even of European writers."

Arthur Fula het self aan dieselfde verslaggewer verduidelik: "My people must get back to the country. There is only tragedy for them here in the city.

"If the Afrikaans-speaking people are to learn to know and understand us – we black people – then our writers must write in Afrikaans. For years I have been waiting for the 'big ones' of my people – the men with titles who are better educated and better situated than myself – to do this. I have waited in vain.

"I saw that I myself must start the ball rolling. A year ago I began to write this book. Jôhannie is Johannesburg, the mould from which the natives who are drawn by its glitter emerge as men, or are broken. Too many are broken. My people must go back to the land."
 
Met erbarming, o Here wat in 1957 verskyn, handel oor die lewe in ’n swart nedersetting naby Johannesburg en ’n toon van naïewe idealisering word bespeur. Hierdie roman gebruik realisme om die lewe van die armes in die stad vas te vang en die haglike sosiale en geestelike toestande waaronder hulle leef en werk uit te beeld.

In Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1958 skryf Abel Coetzee oor dié roman: “[Daar is] letterkundig ’n hele aantal verdienstelikhede wat geroem moet word: die dood nugtere manier waarop die verhaal openbaar word deur die karakters self; die afwesigheid van ’n gedwonge poging om ’n verhaal te skep met allerlei kunsmatige spanningelemente, maar in pleks daarvan die nabeelding van ’n stuk lewe uit die bestaan van die stedelike Bantoe; die hoë idealisme wat die klaarblyklike dryfveer van die skrywer is. Mens herken in die werk van Fula ’n dubbelganger van die Afrikaanse roman van so ’n kwarteeu gelede wat betref die verborge geestelike bronne waaruit dit spruit. Vergelyk mens dit met die skrywer se eersteling […] dan is daar ’n duidelike vooruitgang te bespeur, nie net wat betref die geredeliker waardigheid met die woord nie, maar veral om die groter ongestremdheid, die natuurliker toon waarin alles uitgebeeld word. Plek-plek slaan die opsetlike propaganda te erg deur, maar om die groter gaafheid vergeet mens dit gou. As kuns is dit verdienstelike werk en as sodanig word dit verwelkom. Om maatskaplike oorwegings is dit ’n werk wat eintlik gerig is tot die blanke leser om die Bantoe se verstedelikte bestaan aan ons te toon. Vergelyk ons die suiwer literêre en die maatskaplike waardes, dan sou ek sê op hierdie stadium oorweeg die tweede waarde. Juis in ons huidige tydsgewrig verdien Fula se tweede roman […] ’n ruim leserskring.”

JM de Vries skryf in Zuid-Afrika van April 1958 oor Met erbarming: “Het verhaal heeft dus veel wat het de moeite waard maakt en toch heeft deze tweede roman van Fula ons enigzins teleurgesteld. Er zijn verschillende Afrikaanse schrijvers, zoals Franz en Schoeman, die in hun boeken veel gebruik maken van de wijze van spreken, die de Bantoes eigen is: wijdlopig en kleurrijk. Fula probeer dit ook te doen, maar het heeft niet de overtuigende kracht van Franz en Schoeman: vooral in de beschrijvende gedeelten is deze wijdlopigheid enigszins onnatuurlijk en soms zelfs hinderlijk langdradig. […] Ons belangrijkste punt van kritiek is echter dat de hoofdpersoon, Naledi, in het boek niet helemaal tot leven komt, in tegenstelling tot de oudere Bantoes, die door Fula zeer gaaf beschreven worden. Naledi blijft enigermate irreëel: ze is alleen maar helemaal goed. […] Samenvattend zou wij willen zeggen, dat Met erbarming, o Here niet volledig aan de verwachtingen, door Fula’s eerste boek gewekt, voldoet, maar dat we in ieder geval een interessant document hebben, waarin een schat van oude volksgebruiken en andere Bantoekenmerken is vastgelegd.”

 

Publikasies:

Publikasie

Jôhannie giet die beeld

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Duits, Im Goldenen Labyrinth
Engels, The golden magnet, vertaal deur Carrol Lasker

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Met erbarming, o Here

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Bronne:

  • Willemse, Hein. 1992. "’n Mens sou nie ’n Bantoe as skrywer vermoed nie" of Arthur Fula se welwillende Afrikaans: ’n eerste verkenning van Jôhannie giet die beeld. Stilet, September.
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Arthur Nuthall Fula (1908–1966) appeared first on LitNet.

Willem Anker (1979–)

$
0
0

Gebore en getoë

Willem Petrus Pienaar Anker is op 3 Februarie 1979 op Citrusdal gebore. Hy word groot op Wellington in die Wes-Kaap as sy ouers se oudste kind en ook hulle enigste seun.

Hy vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 19 Junie 2015) dat westerns vir hom ’n bekoring het. Hy het as kind een vakansie in sy oupa se huis ’n vertaling van een van Louis L'Amour se verhale gelees: "Ek kan nie meer die titel onthou nie ... Ek dink ook nie ek het dit klaar gelees nie. Dit was vir my onverstaanbaar: die koeiseun en die seun, want guy seker maar was of so iets; en girl was dogter en ’n hings was ’n reun ... So jy het sulke sinne soos: 'Die koeiseun klim op sy reun en gaan kuier vir die dogter.' His girl is dan sy dogter."

Oor die eerste boeke wat as jongmens op hom ’n indruk gelaat het, vertel Willem aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 23 Januarie 2016): "Die eerste boek wat ek self deurgelees het, was Huppelkind deur WO Kühne en dit bly een van my gunstelinge, maar dit was seker toe ek in die laaste jaar van hoërskool vir Albert Camus, Hermann Hesse en Etienne Leroux op ’n streep ontdek het, wat die koeël regdeur die kerk en anderkant uit is."

Daar was min dinge wat Willem nie wou word toe hy ’n kind was nie – van die algemene brandweerman en polisieman tot vegvlieënier, cowboy, Indiaan, sheriff, kroek, ridder, draak, spioen, towenaar en seerower. (Vrouekeur)

Hy matrikuleer in 1996 aan die Hugenote-hoërskool op Wellington.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Willem na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom inskryf vir ’n BA-graad. Hierna verwerf hy ook sy BA-Honneurs in Afrikaans-Nederlands en sy MA in kreatiewe skryfkunde onder Marlene van Niekerk. In 2007, op 28-jarige ouderdom, kon hy die titel “doktor” agter (of voor) sy naam skryf met ’n proefskrif getiteld “Die nomadiese self: ’n skisoanalitiese lees van enkele prosawerke deur Alexander Strachan en Breyten Breytenbach” – ’n heel lywige stuk navorsing van ongeveer 600 bladsye.

Tydens sy studentejare was Willem een Desembervakansie kroegman by die restaurant Mexican Kitchen, vertel hy aan Murray la Vita. "Maar toe die klasse weer begin, het die shifts geheimsinnig opgedroog – hulle het my nooit amptelik ge-fire nie, maar net opgehou om my naam op die rooster in te vul. Miskien was my small talk nie na wense vir die clientèle nie of miskien het ek te veel glase gebreek.

"Die jaar ná skool het ek vir ’n vriendin se pa gewerk as wewer. Hy het ’n paar besighede uit sy huis bedryf, en een daarvan was twee weefmasjiene in ’n skuur in sy tuin waar ek vir hom angora-hare geweef het wat glo uitgevoer is na Swede – of een van daardie plekke wat hulself leen tot goeie murder mysteries – vir die pelse van teddiebere. Ek het saam met oom Krisjan, die tagtigjarige man wat ook bietjie tuinwerk gedoen het, hierdie masjiene bedryf. Middagete het oom Krisjan vir ons bokkoms gaargemaak op die droë blare wat hy gehark en dan aan die brand gesteek het. Dit was een van die lekkerste werke wat ek nog gedoen het. Ek moes ongelukkig ophou toe ek agterkom ek is erg allergies vir angorabokke.

“Al slegte ding was dat oom Krisjan verslaaf was aan die vervolgverhale op radio en ook nie meer so goed kon hoor nie.

“Ná my M in skryfkunde het ek nie werk gekry nie en het ek vir ’n paar maande die working holiday-ding gaan probeer in Edinburgh. Daar was ek ’n security guard in Gap-winkels. Die uniforms het net soos Voortrekker-uniforms gelyk. Mens moes rondstaan en verdagte jean-kopers agtervolg. Dit was f—n aaklig. Ek kon ten minste ­later ’n play [Skrapnel] daaroor skryf.

“Tussendeur die sekuriteitswerk het twee Ierse swaers, wat saam ’n verhuisingsmaatskappy met hul lorrietjie bedryf het, my by die hostel kom oplaai as hulle groot huise moes trek en hulle twee nie genoeg was nie. Ek het twee keer saamgegaan, want hulle het beter betaal as die sekuriteitsplek, maar die derde keer wat hulle kom aanklop het, was op ’n dag wat ek lekkerder planne gehad het. Ek het gemaak of ek slaap. Toe het hulle my nie weer gevra nie. Dit was miskien ook oor die rusbank wat ek die vorige keer by ’n spiraaltrap laat afval het.”

Willem is tans dosent in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is met Christine Truter getroud.

Dat hy toneelskrywer geword het, was heeltemal toevallig. Hy het sy vriend Tertius Kapp by die KKNK gaan help "grafte grawe en goeters" vir Kapp se produksie in ’n ou spookhuis, vertel hy aan Willemien Brümmer (Die Burger, 4 April 2009). "Toe dit so half geslaagd was, toe dink ons ons moet probeer om nog ’n site specific ding te doen. Dit was pret om op die plaas rond te grawe, en toe dink ons waar gaan nog ’n interessante plek wees, en toe dink ons ’n scrapyard. Tertius het gesê: ‘Wel, skryf dan iets daaroor’, en toe hou hulle daarvan.”

En só het Skroothonde ontstaan wat in 2004 by Aardklop gedebuteer het waar Kapp en sy Tart ’n Koggel-produksies dit in ’n scrapyard "op die planke" gebring het. Skroothonde is by 2004 se Aardklop bekroon met die Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk.

Die stuk speel hom af in 2204 op ’n "postapokaliptiese puinhoop", skryf Kobus Burger in Beeld van 1 Oktober 2004. Die wêreld soos die toehoorders dit geken het, bestaan nie meer nie en die enkeles wat oorleef het, praat ’n taal wat vreemd op die ore sal val, verduidelik ’n vrou met ’n plastiekgeweer aan die "toeskouers".

Burger skryf verder dat wat binne die daaropvolgende uur gebeur, ’n kruis is "tussen Blade runner, Mad Max en ’n onseker uitstappie deur ’n skrootwerf wat seker eendag ’n pretpark kom gewees het".

Burger sluit sy bespreking af: "Die reis eindig by die leier van die groep stofbyters. Dit blyk dat sy enigste kind/vrou ge-overdose het op die droomwater (petrol). En hulle het gereken haar droom sou hulle almal red. Dat daar hoop is. Dié toneel gee vir 'n mens 'n Shakespeare-geurtjie in Afrikaans. 'n Woordryke, Afrikaanse Terminator toneel, maar met 'n spul elemente uit die mitologie.

"Dan word ons weggejaag. Die mense (of is hulle robotte) wil rou. 'n Marilyn Monroe kruip uit die rommel en wink ons nader. Het dié god uit die droom ontsnap? Of gebruik die puinhoop-bewoners die enigste god/ikoon wat die ambassadeurs sou verstaan om ons weer terug te ruk na die wêreld wat ons wel sal kan verstaan? Al kopkrappend word ons uitgeskop. So wie is nou die honde wat stert tussen die bene moet vlug? Bang dat 'n stuk geroeste metaal ons sal sny. Of dat Breekyster ons sal beetkom.

"Die einde is nie 'n antwoord nie, maar dat dit 'n seldsame ervaring was, moet almal gelyk gee. Skroothonde is kraakvars ruimtelike teater. Waar Odd Enjinears en ander sulke teatergroepe met 'n magdom idees sit wat nie alslag as 'n sterk geheel bymekaar kom nie, bied hierdie gebeurtenis 'n kragtige kopskuif. Willem Anker se teks is 'n raaiselagtige juweel, wat met 'n mens se kop smokkel. Wat jou kop uiteindelik daarvan maak, is 'n ander storie."

Ook Sielsiek, wat in 2006 by Aardklop opgevoer is, is baie goed ontvang. Willem het weer saam met Tertius Kapp en sy produksiespan gewerk. Willem het Sielsiek as ’n "mikrokosmos van die wêreld" beskryf. In hierdie stuk is vertrekke van ’n kollege in die Nuwe Hoop-tehuis omskep. Hier kan gehore hierdie gestig se kleurvolle, maar terselfdertyd ook ontstellende inwoners ontmoet, skryf Marthinus van Vuuren in Beeld (27 September 2006).

Willem en Tertius se inspirasie was wel "ander malhuis-tipe verhale", maar dit het slegs die voorkoms van die drama beïnvloed. "Die karakters het uit ’n suiwer Suid-Afrikaanse konteks geborrel. Die konteks is Suid-Afrikaans, maar die temas is universeel."

Twee musikante, Braam du Toit en Richard Kapp, was verantwoordelik vir die "insidentele musiek" in die stuk. Hieroor was die twee skrywers baie opgewonde, want hulle het stukkende klaviere en die gestryk van ’n saag vir die effekte gebruik.

Maar dit was met Slaghuis, wat in 2006 as ’n studenteproduksie by Aardklop opgevoer is, dat Willem Anker wel deeglik op die toneel verskyn het. Dit is ingeskryf vir die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater (Spat) en het met al die belangrikste pryse weggestap – algehele wenner, beste dramaturg (Willem Anker) en beste regisseur (Marthinus Basson) as. Dit is ook in 2007 deur Genugtig! Uitgewers in boekvorm uitgegee.

Basson het aan Jo-Ann Floris (Beeld, 30 September 2009) vertel dat Willem Anker die stuk ongeveer twee jaar vroeër aan hom gegee het, maar dat hy nie eintlik geweet het wat om daarmee te maak nie: "Dit sou ’n duur en groot produksie moes wees en dis nie maklik om geld te kry nie. Dis ook ’n baie diggeweefde teks en dan is ’n mens maar altyd ’n bietjie huiwerig om dit met studente aan te pak. En vandag het ons hierdie prys en ons is wonderlik beloon."

Basson beskryf Slaghuis só aan Matieland (Somer 2006/2007): "Slaghuis is gepas geset in ’n metaforiese plattelandse slaghuis, maar is ook tegelykertyd die kamer van ’n naamlose paartjie, Hy en Sy, êrens naby die hoofweg in Bellville. In die koorsagtige nag waarin poësie bots teen banale realiteit, is dit vir die jong skrywer wat in die skaduwee van ’n literêre reus staan, logies en onafwendbaar dat hy in ’n oeroue ritueel sy skrywersgod moet slag om by sy eie identiteit as skrywer uit te kom.

"Onder die druk van ’n verbrokkelende verhouding word woorde wapens en ontaard hierdie nag van dubbeleindes in ’n Walpurgis Nacht waarin die losgelate verbeelding van ’n jong skepper en die skeppings van ’n ontslape skrywer saamspan om sin te probeer maak van die kunstenaar se verhouding met die wêreld daarbuite."

In sy resensie van die verhoogstuk skryf Danie Botha dat Anker in Slaghuis ’n "voorstelling gee van hoe Etienne Leroux (Stian Bam) se romans in sy verstand ontstaan het. Dis ’n veruiterliking, ’n konkretisering deurdat ’n aantal van sy karakters hom in lewende lywe konfronteer, hom aankla, selfs 'slag'. Dit word soms ’n mal gedoente." (Die Burger, 12 Oktober 2006)

Anna-Retha Bouwer (Beeld, 29 September 2006) was van mening dat hierdie donker en absurde stuk sonder voorafkennis van Etienne Leroux en sy werke nie na waarde geskat kan word nie. "Dit raak in daardie konteks gewoon die stryd van die skryfproses, van die skep van karakters wat by jou spook en immer onontgin bly. Dit illustreer ook die punt dat geskepte karakters nie sonder die skrywer kan bestaan nie, en die skrywer ook nie sonder hulle nie. Maar sonder om Leroux te ken (en wie ken Leroux werklik?) gaan daar veel verlore. Net soos Leroux nie vir die gewone leser geskryf is nie, is Slaghuis ook nie vir die gewone teaterganger nie. Dit is nietemin aktueel."

Oor die dramateks skryf Marius Crous in Die Burger van 30 Julie 2007 dat Willem Anker hiermee in die geselskap is van Pirandello, Uys Krige en Breyten Breytenbach met dieselfde ontginning van die verhouding tussen die dramaturg, sy karakters en die stuk wat geskryf en opgevoer moet word. "Daar is ook ’n duidelike aansluiting by die tradisie van die Teater van die Absurde en veral elemente van Brecht se werk. Veral in die tonele tussen Gert Garries en Onse Hymie kom laasgenoemde na vore. (...)

"Die vernaamste in­terteks­tuele spel in dié dramateks is dus met die persona van Eti­enne Leroux en sy tiental romans. Die karakters kom uit Leroux se romans, Leroux self is een van die karakters en daar word byvoorbeeld voorgelees uit sy romans. Daar word ook kommentaar gelewer op die kritiese diskoers wat om Leroux se komplekse romantekste ontstaan het."

Vir Crous is dit presies wat ook met Anker se teks gaan gebeur, aangesien dit ’n teks is wat vra om psigoanalitiese vertolking, asook ’n diepgaande kyk op die psige van Etienne Leroux.

Crous sluit af: "Anker se teks is, nes Leroux se romans, kompleks en veelvlakkig, en sal be­slis ook 'oorgeanaliseer word deur li­teratore'. Dis ’n intellektuele toneelstuk wat beslis nie ingestel is op goeie, grap­pige gesinsvermaak nie, want dit verg heelwat van die leser/kyker X soos in die geval van Cloete se Onderhoud met ’n Bobbejaan of Breytenbach se Boklied en Die Toneelstuk. Interessant hoe die Afrikaanse dramaliteratuur so ’n intellektuele rigting inslaan."

Willem Anker se eerste roman, Siegfried, word in 2007 deur Kwela uitgegee. Die eerste weergawe van die roman is geskryf ter verkryging van sy MA-graad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Dit is aanvanklik aan etlike uitgewers gestuur vir publikasie onder die titel Sirkus, maar niemand was bereid om dit uit te gee nie, omdat dit na hulle mening te eksperimenteel was. Daar is toe geskaaf, oorgedink een oorgeskryf aan die manuskrip en ook aan sy vriende voorgelê vir hulle menings, en uiteindelik is dit toe onder die titel Siegfried gepubliseer. Dit is in 2008 met die Universiteit van Johannesburg se debuutprys en die Jan Rabie/Rapport-prys vir vernuwende skryfwerk bekroon.

Soos Willie Burger in De Kat (9 September 2007) geskryf het, is Siegfried ’n roman wat jou laat "regop sit".

Willie Burger skryf verder: "Siegfried begin op aangrypende wyse met die dood van die boer, Landman (die name is simbolies) op sy Karooplaas. Sy swaksinnige seun, Siegfried,  met sy lomp gewebde vingers en tone, onderneem ’n reis op soek na sy enigste familielid. Hierdie 'paddaman', ontuis op land en in die wêreld, word op sy reis vergesel deur die mislukte skrywer en amateur-entomoloog, Smit (Smetsmid) wat in sy voortdurende dronkenskap tóg probeer om vir Siegfried te beskerm teen ’n wêreld waarin onskuld en naïwiteit nie ’n plek het nie. Hul reis lei tot ’n deurmekaarspul in Kaapstad waar hulle onder meer beroof en aangeval word."

Hierdie wêreld, wat soos ’n nagmerrie is, word meestal vanuit Siegfried se perspektief vertel. "Sy beperkte begrip word weerspieël deur prosa waarvan die sintaksis versteur is. Siegfried se perspektief word afgewissel deur die perspektiewe van Smit, David (’n verveelde jong man wat selfmoord pleeg) en uiteindelik ook deur Fafnir, die 'dramaturg', se versplinterde beeld op die wêreld. Hierdie buitestanders se ervarings maak ’n kritiese blik op die samelewing moontlik."

In ’n onderhoud met Suné Kitshoff (Die Burger, 28 September 2007) wou Kitshoff ietsie meer weet oor die karakter Smet en sy "gogga-ding" wat haar aan Dracula van Bram Stoker laat dink het. Willem se antwoord hierop: "In Dracula is Tom Waits in ’n malhuis en Gary Oldman die beroemde bloedsuier. Wat ’n goeie fliek; net jammer van Keanu Reeves! Smet is nie gebaseer op Renfield nie, maar die woorde van Renfield pas miskien goed in sy mond. 

"Oor Smet se insek-etery wil ek nie self te veel sê nie; ek was heel verbaas toe die stomme man die eerste keer ’n kriek in sy mond gedruk het. Hy sou seker iets sardonies sê, soos wat die hart van vol is, loop die mond van oor. As ’n mens kinders en diere dophou, sien jy hulle snuif of kou aan iets wat hulle interesseer of fassineer. Sommige eet kougom, ander kou hul naels. Dit maak dalk veel meer sin om iets met ’n bietjie proteïen in te kry. Maar Smet sou seker gespoeg het op sulke verklarings. Ek is nie sy sielkundige nie."

Kitshoff wou verder weet, gesien die feit dat in Frankenstein die "kreatuur" erg verbrand word en ook Siegfried wat geteister word deur vuur, asook die skepsels in Fafnir se sirkus, of ons "eers vermink moet word voordat ons aanvaar". Vir Willem was hierdie vrae juis dié rede hoekom hy Siegfried geskryf het: "Ek glo nie daar is enige maklike antwoorde vir hierdie kwessies nie. ’n Roman is vir my ’n praatplek waar met sulke vraagstukke omgegaan kan word sonder dat daar op ’n finale antwoord afgekom hoef te word. Ek voel die skrywer se werk is om te ontwrig en nie te onderrig nie. As die boek as ’n moraliserende traktaat gelees kan word, het ek misluk. Of mense hou van die boek, of hulle dink dis prulwerk en of dit iemand ontstig, is om’t ewe, solank niemand ’n lessie daarin sien nie. Siegfried was my manier om te dink oor die bogenoemde kwessies van Frankensteinagtige vure, Fafnir-Rose-grilvertonings en spykers. Dit is die enigste antwoord wat ek kan gee."

Siegfried bestaan uit vier dele en vir Kitshoff het die eerste deel haar aan John Steinbeck se Of mice and men laat dink en was dit ook vir haar baie komies. Sy wou weet of Willem Anker ’n gunsteling onder die verskillende dele het: "Of Mice and Men is ’n wonderlike boek wat ek al ’n paar keer gelees het. Deur die loop van die romanskrywery het ek ’n klomp tekste gelees wat oor idiote-karakters handel. Ek dink nie Steinbeck was een van die grootste invloede nie, maar as iemand enige raakpunte sien, is dit ’n kompliment vir my. Siegfried is as ’n geheel geskryf, maar ek het tog probeer om aan elke deel ’n eie stem of stemming te gee. Ek hou nie van enige van die afdelings meer as van die ander nie. Sommige dele was natuurlik moeiliker om te skryf as ander, maar wie het gesê pyn dra nie ook ’n bietjie genot nie?"

Willem skryf nie net oorspronklike toneelstukke en het al ’n hele paar toneelstukke vertaal. In 2008 het hy die Britse dramaturg Sarah Kane se Crave in Afrikaans vertaal onder die titel Smag. Dit was haar voorlaaste toneelstuk voordat sy nie lank nadat sy 28 geword het, selfmoord gepleeg het nie.

Deborah Steinmair (Die Burger, 31 Julie 2008) het oor die opvoering in die Baxter-teater in Kaapstad geskryf dat Willem Anker Kane se poëtiese en intense woorde wat "gestroop is van hoop" in "elastiese Afrikaans omgetoor" het.

"Anker se vertaling tref soos ’n opstopper in die maag. Die ­gespierde, elegante woorde draai nie doekies om nie. Afrikaans is by uitstek ’n taal om in te wroeg. Die wroeging het dimensie en slaan oomblikke van hoë, suiwer skoonheid raak soos die rand van ’n glas wat sing onder ’n vinger. Braam du Toit se musiek is ­alomteenwoordig soos ’n hartklop, soos asemhaling: dit ­onderstreep, omlyn, dra en onderskraag sonder om op te dring. 

"Die geheel is soos ’n fyn geïntegreerde simfonie. Die atmosfeer is katedraalagtig, die marimbaspeler asof agter ’n orrel en ’n koorleier in lang ­gewaad op die voorgrond. Sodoende word die smagting amper draaglik; spoel die litanieë oor die gehoor soos water. (...)

"Die produksie is fyn ge­orkestreer. Dis sinnelik en lieflik."

Vir Aardklop in 2009 het Willem ’n opdragstuk geskryf met die titel Skrapnel, weer ’n titel wat met ’n S begin. Dit was een van net twee nuwe stukke by Aardklop van daardie jaar en het weggeloop met die AngloGold Ashanti/Aardklop Smeltkroes-prys vir die beste nuwe Afrikaanse verhoogteks by Aardklop en was ook die wenner van die ATKV-Woordveertjie vir Drama in 2010. Dit is ook bekroon met die Beeld Plus Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk.

Die hoofkarakter van Skrapnel is Christiaan Rudolph de Wet Botha, ’n jong, wit Suid-Afrikaner wat na skool Londen toe is, waar hy as ’n veiligheidswag in ’n klerewinkel werk. Deel van die intrige in die verhaal is die agtergrond van die selfmoordbomaanvallers wat agter die aanvalle op Londen se vervoerstelsel in Julie 2005 gesit het. Botha is een van die slagoffers van die bomme en die stuk "die skrapnel van Chris se lewe, losgeslane fragmente van ’n ongeleefde lewe en ’n ontheemde generasie" – aldus Jaco Bouwer, die regisseur van die stuk (Beeld, 26 September 2009).

In 2010 is Skrapnel ook op die Nasionale Kunstefees op Grahamstad opgevoer, wat dit die eerste Afrikaanse stuk op hierdie fees maak sedert 2004, toe Straties op die planke was. Dit is ook in 2011 deur Protea Boekhuis in boekvorm uitgegee.

Willem se volgende toneelstuk, Sakrament, debuteer in 2009 by die KKNK, en hierdie slag is Marthinus Basson weer die regisseur. Dit is ’n baie kritiese stuk oor Suid-Afrika. In haar resensie skryf Laetitia Pople (Die Burger, 6 April 2009): "Wat bly oor vir die mens behalwe bid en suip? In Willem Anker se wrang Sakrament bykans niks. Pa, Sus en Boeta is verby vuisvoos geleef in ’n Suid-Afrika onder beleg van misdaad. Pa is net ’n fluistering in ’n karkas, Boeta se kop het uitgehaak as misdaadverslaggewer vir ’n dagkoerant en Sus, hoogswanger na ’n gewelddadige aanval hou alles net-net bymekaar met borde pap en troos.”

Sakrament het vyf jaar vantevore sy beslag gehad nadat Anker ’n foto van ’n vrou gesien het wat ná ’n plaasaanval haar kinders vashou en net na die kamera staar nadat haar man in die aanval doodgeskiet is. Tog was daar iets in die vrou se oë wat spreek van ’n wil om aan te hou sorg, al is dit sonder hoop, vertel Willem aan Willemien Brümmer (Die Burger, 4 April 2009).

"Ek het ’n paar keer iets probeer maak met hierdie karakter – die versorger wie se enigste verweer teen die geweld, die wanhoop, is om aan te gaan, vir wat dit werd is. Dit was die geboorte van Sus, miskien die spilpunt van die stuk, al sê sy nie baie nie."

Hy verduidelik verder aan Brümmer: "Ek moes my egter begin afvra hoe skryf ’n mens oor geweld in Suid-Afrika? Veral hoe skryf ek oor geweld. Ek wou nie namens die slagoffers praat nie, en beslis nie soppy raak en trane trek en goed nie.

“Ek het begin dink dat die antwoord dan in die styl, die taal en die vorm van die verhaal sou lê. Ek het dadelik aan die Markies de Sade gedink, wat sy lewe gewy het aan die opskryf van geweld. Toe ek oor hom begin lees, kom ek af op ’n artikel van Bataille, ook iemand wat op talige wyse gefassineer is deur geweld, seks en die soeke na die anderkant van taal – die taal van transgressie.

“Bataille sê De Sade se opnoem en lys van gewelddadige aksies is ’n manier om deur die menslike kondisie te werk, om aan die ander kant uit te kom – dat dit De Sade se poging was om te ontsnap aan sy ego, ’n manier om van homself weg te skryf. Dit was waar die idee van ’n misdaadjoernalis wat sy eie koerantstories oor en oor sit en tik ontstaan het.

"Indien ek hierdie gegewe in taal wou opvoer, sou die enigste oplossing lê in ’n ritueel – ’n dramateks. Om ’n effense vervreemding te bewerkstellig, het ek die stuk binne die herkenbare struktuur van die Griekse tragedie geplaas en so by Dionusos uitgekom.

“’n Belangrike aspek van Dionusos is dat hy die god van oorgawe aan die chaos is, die god van egolose beswyming, en so het die joernalis ’n volgeling van Dionusos geword, en uiteindelik ook self ’n klein Dionusos [uit] eie reg. Euripides se tragedie, Die Bacchae, was dus ’n obvious keuse om as struktuur te gebruik.”

Maar Willem meen dat dit nie ’n voorwaarde is dat die gehoor bekend hoef te wees met al die intertekste nie. “Dit was maar ’n sogenaamde vervreemdingstegniek, ’n manier om te sê: Hierdie is niks nuuts nie, baie het al voorheen dieselfde gesê. Ek hoop die stuk staan op sy eie sonder dat jy ’n biblioteek hoef saam te sleep Oudtshoorn toe. ’n Ritueel werk tog net as die gehoor, of gemeente, kan en wil deelneem.

"Tussendeur is ’n koor van vier wraakengele wat kommentaar lewer, wat snydend sis en voortdurend eggo – als kan tot niet gemaak word, selfmoord is ’n uitweg. In sulke tye het jy voorwaar ’n strooihalm nodig en siedaar ’n versekeringsagent verskyn op die verhoog. Die man is vasberade en paraat; vir elke probleem het hy ’n polis. Die pad na heelheid is ’n handtekening weg.

"Vir bykans twee uur ry die gehoor op die rondomtalie van verskrikkings en besinnings. Die produksie onder spelleiding van Marthinus Basson kom oordrewe, bewerk en selfbewus voor. Net hier en daar tref die waarheid van Anker se diepgaande insigte jou. Tog leef ons in dieselfde Suid-Afrika, niks hier is vreemd of onthullend nie. So wat is die punt van Sakrament? Tereg is daar niks nuuts aan sy stuk nie soos Anker self in sy nota skryf. Gaan ’n mens nie teater toe vir ander insigte om jou werklikheid te herrangskik nie? Soek jy nie ’n ander invalshoek nie? Hier word jy nie veel gegee om mee te timmer nie. Boeta/Dionusos se uitsprake is soos die afrits van slagspreuke gevoed deur koerantopskrifte en intertekste. Benewens die skitterspel van Stian Bam, Eben Genis en kie is Sakrament ’n teleurstelling." 

In 2012 word die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs aan Willem toegeken. Die prys se waarde was op daardie stadium R350 000 en word aangewend vir die aanmoediging van skeppende skrywers. Willem se reaksie op hierdie toekenning was: "Die aansoek vir die beurs was vir my eerder ’n gestruktureerde manier om my kop rondom die beoogde roman te kry as dat ek gedink het ek het werklik ’n kans. Dit is ’n enorme eer."

Hy het die geld gebruik om navorsing te doen vir sy nuwe boek oor Coenraad de Buys – "die rebelse grensboer, revolusionêr, veedief, outlaw, poligamis, adviseur van Gaika, vriend van die sendeling Johannes van der Kemp, grootwildjagter, charmer, trekker en kwaadstoker".

In Die Burger van 1 Februarie 2014 het hy gesê dat die geld hom in staat gestel het om vir twee jaar op sy agterstewe te sit en te skryf en te skryf en te skryf. "Ek kon opspring en ver gaan reis in die spore van die verloopte trekboer om te sien hoe die doringbome en miershope langs die Visrivier anders en dieselfde lyk as die doringbome en miershope in Botswana. Ek kon weer gaan sit op die einste bas en verder skryf. Dit het my baie ryk laat voel."

In 2014 verskyn Buys en dadelik is die literêre tonge los. In 2015 slaan dit drie van die grootste pryse los – die UJ-prys vir skeppende skryfwerk, die WA Hofmeyr-prys en die kykNET-Rapportprys vir fiksie.

Tydens die toekenningsfunksie van die kykNET-Rapportprys het Thys Human hom in sy commendatio as volg oor Buys uitgespreek: "Buys is ’n grensroman wat die hele idee van grense grondig uitdaag. Deeglik gewortel in die historiese aarde van dié klipperige kontinent, groei dit uit tot ’n magistrale eietydse besinning oor identiteit en spesifiek die Afrikaneridentiteit, verset, korrupsie, geweld, magmisbruik en moraliteit (of dan eerder – en dit is selfs meer ontstellend – ’n gebrek daaraan” (Die Burger, 20 November 2015). En die beoordelaars van die WA Hofmeyr-prys was van mening dat Buys "’n roman is wat, soos sy historiese titelkarakter, op onverskrokke wyse bestaande grense, literêr en andersins, uitdaag en ­oorskry” (Die Burger, 6 Junie 2015).

By die ontvangs van die UJ-prys het Willem gesê dat hy goed moes dink oor wie of wat Coenraad de Buys was: "’n volkslegende, ’n historiese karakter of ’n fiktiewe karakter, of almal? My werksreël was dat ek hou by die feite, waar ­hulle te vinde is, maar soms is die waarheid oor ’n lewe meer storie as feit. Die navorsing vir dié teks het uiteraard meer as een ­bestemming gehad. ’n Bietjie meer as nege bladsye in een hoofstuk van die roman het hul bestaan te danke aan geskiedenis, oorvertellings, teksplundering, ’n tesis, ’n Engels-onderwyser in die Appalachiese gebergte en die waterinhoud van sommige warmbronne in Limpopo. 

"’n Roman skryf jy nie alleen nie. Ek sal prosa weer aanpak. Die skryf van ’n roman is soos die 'agterplaas-buskruit' wat Buys en Buchanan, ’n Skotse karakter in die boek, maak. Al twee benodig konkoksies van uiteenlopende ­materiale. Op hul beste gee albei ’n mooi knal en vonk van ontlading af. ’n Mens moet maar net hoop dat albei góéd is, en reg gemeng is, sodat dit sal vuur waar en wanneer dit moet. En nie in jou gesig sal opblaas nie.” (Die Burger, 14 Mei 2015)

Op LitNet vertel Willem Anker aan Naomi Meyer dat daar nie net een aspek van Coenraad de Buys se verhaal was wat hom gefassineer het nie – "onder meer hoe hierdie eenman-oorlogmasjien alle vorme van grense geminag het".

Daar was egter ook ander dinge van sy persoon waarvan hy nie hou nie, soos dat hy ’n rassis was en die manier waarop hy die mense naby aan hom behandel het; en daar was selfs gerugte dat hy handel in mense gedryf het. "Ek was aangetrokke tot die onoplosbare teenstrydighede."

Een van die moeilikste fasette in die skryf van die boek was "om met ’nhistoriese karakter te werk wat ook moet kan funksioneer as fiktiewe karakter – jy word gebind aan sekere feite en ’n basiese lewensverloop waarvan jy nie kan afwyk nie. Soms het ek die feite gehad, maar die motiverings was duister – dan moes ek motiverings uitdink vir die vent. Hoekom sal hy sus of so aanvang as hy so pas presies die teenoorgestelde gedoen of gesê het?

"Om die feite in die hande te kry, was ook ’n ander storie. Ek het geskiedenis op skool gehad, maar het nog nooit self ’n stuk geskiedenis nagevors nie. Die navorsing dy vinnig wyer uit as die karakter se persoonlike geskiedenis. ’n Mens kan nie iemand begryp sonder om iets te weet van die tyd-ruimte waarbinne hy geleef het nie – hoe lyk die bossies op sy geboorteplaas, hoe werk ’n snaphaan, hoe ruik ’n VOC-pruik, hoeveel kos ’n vat brandewyn in 1811?"

Dan was daar ook baie dooie punte in die skryf van Buys. "Ek onthou byvoorbeeld dat ek vir meer as drie weke op soek was na ’n bepaalde plaas waar Buys vir ’n jaar of wat gebly het. Ek het al wat museum is, gebel en kaarte gesoek, maar niks. Ek het opgegee en verder geskryf en probeer om niks oor die ruimte te sê nie. Natuurlik kan geen toneel werk as mens dit in ’nvakuum laat afspeel nie. Ek het gelukkig uiteindelik die spoor gevind na die plaas met die hulp van ’ngawe skrywer wat alles weet van die Langkloof en ’n hulpvaardige vrywilliger by ’nmuseum wat alles weet van kaarte wat verkeerd geliasseer is. Die plaas was presies soos ek wou hê dit moes lyk – bruin grond, bruin klippe, volstruiskampe, een bergskilpad …"

Willem het die eerste keer van Coenraad de Buys gehoor toe hy in ’n boek deur Max du Preez op ’n hoofstuk oor De Buys afgekom het. Op daardie stadium het hy ’n ander idee vir sy volgende roman gehad, vertel hy aan Willem de Vries (Die Burger, 25 Oktober 2014).

“Die eerste deel sou oor so ’n ­tipe outlaw-figuur gewees het. En toe gaan soek ek sulke ouens, Dirk Ligter, dié tipe figure. Ek het nooit voorheen van Coenraad de Buys gehoor nie. En toe dink ek, maar wie is hierdie mens? Op die internet lees ek toe ’n stuk van Rian Malan oor hom. Daarin vra hy: Maar hoe is dit moontlik dat daar nog nie iets soos ’n fliek of boek oor hom is nie? En toe kry ek die idee om dalk iets oor hom te doen. Toe ek begin navorsing doen vir Buys, kom ek agter dit gaan ’n groot ­projek wees. En iets waarvoor ek tyd gaan nodig hê.”

Die roman het sy beslag gekry ná twee jaar se navorsing wat die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir hom moontlik gemaak het.

Vir sy navorsing het Anker deur die land gereis, en hoewel plekke verander het (waar die eerste drostdy in Graaff-Reinet byvoorbeeld was, is vandag ’n Shell-vulstasie), was hy tog in staat om die spore van hierdie legendariese figuur te kry. Baie van die plekke waar De Buys hom destyds bevind het, is vandag wildplase en bewaringsgebiede en omdat daardie gebiede behoue gebly het, is Buys se wêreld aan Anker blootgestel.

“Ek was in baie dele van die land waar ek nie tevore was nie, ook die plekke wat nog lyk soos dit tóé gelyk het. Dieselfde soorte bokke en bossies kom nog voor. Ek het op hierdie reise anders gekyk na die landskap. Soos op pad na Graaff-Reinet. Jy sien dáár kom ’n donderstorm aan. Jy kry in daardie ooptes sterk die indruk van weerloosheid.

“En as jy – soos Buys – 11 jaar lank in die klowe van die Couga gaan sit en geen kontak met die buitewêreld het nie, kry jy ­sekerlik die idee jy is aan jouself oorgelewer. Wat jy ook al doen, dit gaan nie saak maak nie. Jy gaan net aan. Maar soos ek dit verstaan het, wou die man heeltyd wégkom van iets af. En as jy só op die ver­nietigingsbaan bly, is daar één ding veral waarvan jy wil ­wegkom en dit is juis jouself.

“Hy het hom deurentyd teen die Kolonie verset. Stelselmatig het hy alle grense aangevat, alle ­vorme van kolonie. Om daaruit te breek – ook die grens van ’n gesin of ’n familie. Sodra hy ’n hegte band het met ’n vrou en kindjie, dan bring hy nog iemand by net om dit onmoontlik te maak.

“Die eerste omtrent 150 bladsye het ek geskryf in die derde ­persoon en die idee was om so ver moontlik nét aksies en landskap te wys. Ek het gebly by sensoriese goed. Om net handelinge te wys sodat ’n mens daaruit aflei wat die persoon se motiverings en ­emo­sies is. Toe het ek alles oor­geskryf in die eerste persoon.”

Oor die tydsgetrouheid van die roman vertel Anker aan Willem de Vries dat indien daar enige foute of oordrywings is, moet die blaam na sy kant toe kom. Die manuskrip is aan Dan Sleigh, Karel Schoeman en Fransjohan Pretorius gegee om die geskiedkundige akkuraatheid daarvan na te gaan. "Hulle was baie vrygewig met hul wye kennis en het almal baie nuttige en spesifieke raad gegee."

En geskiedkundige verantwoordbaarheid is baie belangrik in so ’n roman, want as De Buys op ’n sekere tydstip op ’n spesifieke plek gebly het, moes hy in die roman ook daar gebly het. "Oor die eerste deel van sy ­lewe is ’n klomp opgetekende feite. Toenemend, soos wat hy oor grense gaan, raak dit baie meer gerugte. Dan begin ’n mens werk met historiese feite én legendes. Ek wou albei behou en dan met mý Buys invul. Dan dit alles saamsit sodat dit fiksie word.” 

Waar die "Buys-volk" geplunder het, kan dit die leser aan die Wilde Weste laat dink. Anker vertel aan De Vries dat hy baie gelees het oor Billy the Kid en die redes hoekom hy so ’n legende geword het. "My Buys het help skep aan sy eie beeld. Dit was vir my lekker om daarmee te speel. Om buite die Kolonie te funk­sioneer, was geweld vir hóm die paspoort. Ek het wel karakters ingebou wat ander maniere van leef vind. Dis maar hoe hý was. Vat wat jy kan, solank jy kan. 

“Hy is ’n tipe figuur wat nog oral is en seker altyd maar was. Ek dink as ’n mens geskiedenisboeke en vandag die nuus lees, kom jy agter baie van die stryery is oor dieselfde dinge. Selfs dieselfde argumente. Alles bymekaar bly dit die storie van mag.”

Die resensente was dit almal eens oor die hoogstaande gehalte van Buys: ’n grensroman. Hier is enkele uitsprake:

  • Henning Snyman op LitNet: "Met hierdie grootse roman en geweldig baie gegewens, goed nagevors, skep Willem Anker ’n roman wat sy plek langs die werklik groot Afrikaanse romans kan inneem. Kortom, dit is ’n kragtoer, en hierdie enkele indruk van ’n leser laat nog sóveel buite rekening."
  • Thys Human in Die Burger van 7 November 2014: "John Updike het iewers opgemerk dat ’n grootse roman gekenmerk word deur die totstandkoming van sy eie unieke taal. En dit is by uitstek die geval in Buys. Sonder om hom enigsins te laat verlei deur oordaad of vertoon, slaag Anker telkens daarin om met die oordeelkundigste van woordkeuses ’n subtiele verskuiwing in verteltoon (vanaf dit wat skok en ontstel tot by dit wat die hart wring) te bewerkstellig en op woordekonomiese wyse ’n verbygegane wêreld glashelder voor die leser se oog te roep. Soos ’n rifrughond se ysingwekkende tjank is Buys ’n roman wat selfs lank ná die lees daarvan in die omtes van die hart én die verstand bly eggo." 
  • Rian Malan in Rapport van 9 Desember 2014: "Anker se vertolking: Buys het vermoed dat sy beskaafde gehoor nie die waarheid sou begryp nie: 'Hier is nie vrede te maak nie; hier is niks om te verstaan nie. Die enigste revolusie is tussen stof en vuur, die enigste gelykheid die plat grond, die enigste broederskap op voorwaarde van ’n gedeelde vyand of skande ...' Dis ’n donker blik, maar as dit Anker se doel was om mites te ondermyn slaag hy daarin. Soos Ingrid Winterbach op die omslag sê: 'Ek haal my hoed af vir wat Willem Anker hier regkry.'"
  • Phil van Schalkwyk op LitNet: "Buys is ’n roman wat groot wil wees en dit ís, en noop die leser om in daardie terme te dink en so goed as moontlik te probeer byhou. In navolging van Buys wat met sy 'welluidende stortvloed dinge bymekaarbring wat hulle nog nie voorheen saamgedink het nie' (Anker 2014:84), vra die roman Buys van die leser om groot en kreatief en integrerend te probeer dink. Min wat mens oor hierdie roman mag bedink, kan myns insiens te hooggegrepe wees."

Willem se volgende toneelstuk, Samsa-masjien, word in 2014 op die planke gebring en wéér bly die pryse nie agterweë nie. Dit verower nie net die ATKV-Woordveertjie vir drama in 2014 nie, maar by die KKNK in 2014 word dit bekroon met die Herrieprys vir vernuwende denke, asook Kanna-pryse vir beste akteur (Gerben Kamper), beste aktrise (Antoinette Kellerman) en beste regisseur (Jaco Bouwer). Laetitia Pople het die drama beskryf as ’n "totale aanslag op die sinne" (Die Burger, 4 April 2014).

Dit is deels gegrond op Franz Kafka se novelle Die Verwandlung (Die metamorfose), hoewel Willem teenoor Naomi Meyer op LitNet erken dat goggas vir seker die begin van die stuk was. "Ek en Jaco (Bouwer) het sedert 2009 gepraat oor ’n moontlike stuk waar mens kan speel met hoe insekte swerm en skarrel en geraas maak. Dit was eers toe ons begin praat het oor hoe mense swerm en skarrel en geraas maak dat Kafka se gogga sy kop uitgesteek het."

Samsa-masjien was klaar geskryf voor Willem met Buys begin het, maar hy het tog nog ’n bietjie aan die drama geskaaf. Hy het aan Naomi Meyer (LitNet) verduidelik dat hy daarvan hou om eers een projek af te handel voordat hy met die volgende een begin, "maar die goed bloei maar seker altyd mekaar effe binne".

In Samsa-masjien is die hoofkarakter ’n oudskoolhoof, Gregor Samsa (Gerben Kamper), wat oortuig is daarvan dat hy besig is om in ’n baie groot insek te verander. Sy vrou (Antoinette Kellerman), hulle dogter en skoonseun is baie bekommerd oor hom, terwyl die dokters dit diagnoseer as gevorderde demensie. Omdat sy hom nog liefhet, kruip en speel sy vrou saam met hom rond. Aan die ander kant walg hy sy dogter en skoonseun en kan hulle dit feitlik nie meer wegsteek nie.

Laetitia Pople skryf: "Daar is vele betekenislae in die toneelstuk, waarvan ek net kommunikasie belig. Anker gebruik onverstaan­bare, by tye geradbraakte, taal en later die brabbeltaal van ’n kind. Anker se karakters kan nie met mekaar kommunikeer nie. Een kan net vir ’n ander ‘piep’ sê of ten beste swyg, skouers ­optrek en wegdraai. Waar die seun as psigiater juis taal moet kan besig om ’n komplekse psigiese toestand te kan beskryf en die dogter se taal uit die leë oorreding van die advertensiewese spruit, faal albei om te kommunikeer. Die klanklandskap klink soos die gegons van ’n byenes, dit groei aan en ­verdoof op die agtergrond. 

"Tussendeur konstrueer jy jou eie verhaal van ’n ge­siene skoolhoof wat sy kinders nog harder as die ander ­'gebliksem' het, om ’n voorbeeld te stel en ’n ma wat haar drome prysgegee het en in haar dertigs begin praat het van 'in haar dae'. Twee liefdestonele word treffend teen mekaar afgespeel as seks gelees word as die intiemste kommunikasie. Skoonseun kan dit net doen as hy na ’n klinkende sjampoe-advertensie luister terwyl die ouers soos insekte kerjakker. 

"Bouwer se visuele voor­stelling is trefseker. ’n Huis van yuppies, alles klinies wit met ’n weggesteekte slop­emmer vir die pa en onder ’n donker kelder met stellasies. Die kelder word ’n spelonk van die onbewuste, waar dít wat verborge en verdronge was in die gesin aan die lig kom. Die ma en pa verban hulself hierheen. Dit is hier waar daar geweeklaag word oor die seun wat op 19 jaar aan die grens gesterf het. 

"Dan volg die meesterlike ommeswaai, die 'sinryke ­dialoog' is nie die onbetrokke taal (mumbo jumbo) van die psigiater (skoonseun) of die oorreed-en-smokkeltaal van die advertensiewese (dogter) – 'ek sê vir mense wat hulle moet droom' – nie, maar juis van dié verworde insekte wat hul korf onder die wit huis bou. Dit word skitterend uitgebeeld in ’n banale gesprek oor flertse niks om die etenstafel.

"Die lawaai word oorverdowend, dit is net distorsie en wanorde aan die einde. As teaterganger weet jy nie mooi wat met jou gebeur het nie – jy sukkel skielik om self sinne aan mekaar te flans, asof jy ’n insek is wat uit die eerste modder kruip. Oudword, aflegging en die verlies aan taal boei enduit."

In 2015 is Samsa-masjien deur Protea Boekhuis in boekvorm gepubliseer. Willem en Jaco Bouwer het, nadat die eerste weergawe van die stuk in 2011 klaar was, die komponis Pierre-Henri Wicomb gevra om die musiek vir die stuk te skryf, vertel Willem aan Naomi Meyer op LitNet. Met die publikasie van die boek is ’n CD met die musiek van Wicomb agter by die boek ingesluit. Daar is ook heelwat foto's uit die produksie in die boek afgedruk sodat die leser ’n indruk kan kry van wat op die verhoog gebeur.

Met die publikasie het Willem en Danél Hanekom, wat die redakteur van die publikasie was, probeer om die boek se formaat só op te stel dat die teks oral maklik gelees kan word. "Die teks was tot nou toe meestal net gebruik deur mense wat betrokke was by die produksie, so in baie gevalle was net halwe woorde nodig as dit gekom het by die aanwysings. Omdat sommige tonele gelyk afspeel, moes ons ter wille van leesbaarheid soms aanpassings maak in die manier waarop die toneelaanwysings werk. Op een plek waar daar byvoorbeeld twee gesprekke gelyktydig plaasvind, het ons die bladsy in twee gedeel en die twee gesprekke langs mekaar geplaas. Omdat die stuk op twee vlakke en in drie vertrekke gespeel word en daar met die verloop van die stuk toenemend tonele op dieselfde tyd maar in verskillende ruimtes afspeel, moes ons vir die gepubliseerde teks seker maak dat dit altyd duidelik is wie waar is. Behalwe om die verhoogaanwysings en formatering soms effe aan te pas, het ek nie veel aan die dialoog verander nie – die opvoer van ’n verhoogteks is gewoonlik die dialoog se strengste toets," verduidelik Willem aan Naomi Meyer oor hulle werkswyse met betrekking tot die verwerking van die stuk om dit geskik te maak vir publikasie.

Marius Crous (Beeld, 23 Junie 2015) sluit sy bespreking van die boek só af: "Anker se intertekstuele spel met Kafka bied aan die leser ’n nuwe blik op Kafka se gekanoniseerde teks. Op slim wyse word dit herskryf in ’n nuwe gedaante. Dit bevestig opnuut dat die Afrikaanse drama op ’n interessante trajek is, wat veral, sedert Boklied, die konvensies van die verhoogdrama telkemale uitdaag."

Publikasies:

Publikasie

Siegfried

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780795702549 (sb)

Uitgewers

Roggebaai: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • UJ-debuutprys 2008
  • Jan Rabie/Rapport-prys vir Innoverende Afrikaanse Letterkunde 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Slaghuis

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780958488075 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Genugtig!

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Wenner Sanlamprys vir Afrikaanse toneel 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skrapnel

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869194093 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • AngloGold Ashanti Smeltkroes-prys vir die beste nuwe Afrikaanse verhoogteks Aardklop 2009
  • Wenner ATKV-Woordveertjie vir Drama 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Buys

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780795706936 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Kwela

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • UJ-prys vir Skeppende skryfwerk 2015
  • WA Hofmeyr-prys 2015
  • kykNET-Rapportprys vir fiksie 2015

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Samsa-masjien

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781485302568 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • ATKV-Woordveertjie vir drama 2012
  • Herrieprys vir vernuwende denke 2014 (toneelstuk)
  • Kanna-pryse vir beste akteur (Gerben Kamper), beste aktrise (Antoinette Kellerman), beste regisseur (Jaco Bouwer) 2014
  • Fleur de Cap-toekenning 2016: 
    • Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks (Willem Anker)
    • Beste klankontwerp, oorspronklike musiekkomposisie of oorspronklike klankbaan (Pierre-Henri Wicomb)
    • Beste stelontwerp (Jaco Bouwer)
    • Beste regisseur (Jaco Bouwer)
    • Beste akteur (Gerben Kamper)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Willem Anker beskikbaar op die internet

Artikels deur Willem Anker beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Willem Anker (1979–) appeared first on LitNet.

Carina Stander (1976–)

$
0
0
carina280

Sêgoed van Carina Stander

“Afrikaans is die taal waarin ek dink en daarom ook skryf. Rou klanke soos g, k, r en die vryheid om nuwe woorde uit ’n betreklik jong taal te skep, is opwindend.”

“Soos my gedigte, is ook my beeldhouwerke en skilderye ’n spel tussen die natuur en bonatuur, die sigbare en onsigbare, die werklike en onwerklike. Dit is ’n soeke na ’n droomsfeer of geheim, na iets wonderbaarliks. My kuns neig na Surrealisme en is verhalend, terwyl my skryfwerk visueel is.”

“Poësie – enige kunsvorm – is relevant wanneer dit die verwondering en vrese van ’n gemeenskap uitbeeld. Of ’n harde werklikheid ontbloot, sodat die gemeenskap homself kan verstaan. Of ’n realiteit van genade te midde van onheil skep, sodat die gemeenskap weer kan hoop. Ek glo die Afrikaanse poësie vermag al hierdie dinge.”

Haar inspirasie: “’n Liefde vir stories, kuns, mense, God, musiek. Ook ’n liefde vir die wildernis en ’n brandende nuuskierigheid oor die aarde laat my reis soos die wind.”

Waaroor kan sy glad nie skryf nie? “Ek skram weg van wanhoop. Hoop is revolusionêr. Dit ontbloot en verken ’n bedekte realiteit van genade, genesing en vervulling te midde van dreigende onheil. Ek sal ’n werk uit geweld of lyding laat ontspring, maar dit nooit in sinnelose brutaliteit laat eindig nie. Vir my is dít protespoësie: om téén die wreedheid van die wêreld in te skryf. Om vryheid en vrede te skree, sónder om die omvang van die slagting te ontken. Wanneer ek oor die skoonheid van Afrika dig, is dit meermale as reaksie. Skoonheid is ’n aanklag teen wreedheid." (In ’n onderhoud op Versindaba)

“Soms is kuns ’n ontvlugting van skryf. As skryf te eensaam raak, wil ek net kuns maak. Verder finansier die kuns en skryfwerk mekaar. As student het ek bronsbeelde gegiet, sodat ek kon toer, waarna ek ’n kortverhaal, ‘Vrydagaande praat jy in jou slaap’, oor Duitsland geskryf het, wat opgeneem is in ’n bundel. Laasjaar het ek met kunsgeld ’n nuwe laptop vir my skryfwerk aangeskaf. Die artikels wat ek vir tydskrifte skryf, betaal weer my olieverf en grinder discs en die brood en patees wat julle by vanaand se boekafskop eet, word gefinansier met ’n skildery wat laasweek verkoop is!”

Oor die rol van geloof in haar werk: “Geloof sypel oral in, asof al die putte waaruit ek water skep, gevoed word deur dieselfde onderaardse aar." (Versindaba)

“In my kuns en skryfkuns gebruik ek die natuur om die Onsigbare tasbaar te maak. Water is byvoorbeeld ’n simbool van geestelike deursigtigheid en vlerke laat my dink aan ’n duifagtige gees.”

Het sy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer sy aan ’n vers werk? “Nee. Ek hou my deure oop vir die literati én die nieletterkundiges. Ek wil inklusief skep, want elitisme is die dood van die kunste. Ek skryf beslis nie net vir myself nie, anders sou ek nie wou publiseer nie. Poësie is klankkuns – dit moet gehóór word.” (Versindaba)

“Skryf is stil woorde. En stilte raak soms eensaam. Om te skilder is veel geselliger. Wanneer ek na geselskap verlang maar baie werk het om te doen, gooi ek my deure wyd oop en klets en drink koffie of rooiwyn saam met vriende terwyl ek voort skilder of beitel.” (Versindaba)

Hoe word haar gedigte geskep, hoe ontstaan hulle? Ek is ’n rommelraper – loop oral en versamel idees. In kuiers met vriende. As ek skilder of saam met my seuntjie balskop. Op ’n berg met ’n kamera. In spreekwoordeboeke. Ek skryf dikwels met musiek. Klassieke musiek of world music van Bulgarye, Kenia, Ierland, Brasilië. Sommige gedigte het ek gedroom (‘om op die rug van ’n donkie in die see te swem’) of gedroom terwyl ek wakker is (‘voor-beeld’ gaan oor ’n visioen). Soms wanneer ek alleen bid, begin die sinne vanself te rym.” (Die Burger, 29 September 2009)

“As kunstenaar leef ek nie in isolasie nie. ’n Kind met Vigs het op my skoot gepie, ek het geslaap in ’n hut waar ’n vrou aan malaria sterf, moes ’n hele bende Alzheimerlyers se doeke ruil, het boere sien knak onder droogte, het lydende diere versorg en nekomgedraai, my man se bloed opgemop en geskrop ná ’n inbraak, my dooie dogtertjie in my hand gehou. Ek het geweld gesien en gevoel aan eie lyf. Wanneer die water so donker raak, doen ek wat ek my lewe lank doen: ek duik by die diepkant in – en skep.” (Versindaba)

“Meegevoel met mense laat my skryf. Soms voel dit asof ek doodbloei aan die wêreld se wonde, dan probeer ek om mense gesond te skryf. Tog is pyn nie die grootste impuls vir my kuns nie. Indrukke van volheid is dikwels só oorweldigend dat dit eenvoudig verbeeld moet word.” (Sarie, 21 September 2009)

“Elke mens het ietsie ‘vreemds’ aan hom of haar. Ek het nog nooit ’n vervelige persoon ontmoet nie.” (Tydens die bekendstelling van Wildvreemd)

Hoekom skryf sy? "Ek is brandend nuuskierig oor die einde." (Beeld, 24 Maart 2014)

Vir wie skryf sy? "Vir diegene wat my grappies vang. (Ek is nogal ernstig oor humor.) Ernstiger: ’n Aktuaris sê anderdag dat hy my boek saamgeneem het op ’n rotsklimekspedisie saam met sy vriende. Een aand het hy sy koplig aangeskakel en begin lees doer in sy enigheid onder ’n oorhangkrans in die Drakensberg. Dwarsdeur die nag. Met sonop was hy klaar. Ek hoor van ’n boer wat met die droogte noodgedwonge ’n lorriedrywer moes word – saans lees sy vrou my plaasgedigte vir hom “sodat hy ’n bietjie kan huil”. Dan is daar die mediese dosent wat vertel dat hy Wildvreemd twee keer in een week gelees het – eers vir die storie, toe vir die taal. Vir súlke lesers kan mens vele selfvertwyfelings en ’n wankelmoedige bankbalans trotseer en aanhou skryf van ewigheid tot amen." (Beeld, 24 Maart 2014)

Haar literêre invloede is "digters wat op ’n sintuiglike wyse met die verhalende omgaan: Breyten Breytenbach, HJ Pieterse, Sheila Cussons, Carolyn Forché, Yehuda Amichai, Pablo Neruda. Verhaalskrywers met ’n digterlike oog of stembuiging: Michael Ondaatje, Anne Michaels, Niall Williams, Etienne van Heerden, Chris Barnard." (Beeld, 24 Maart 2014)

Gebore en getoë

Carina Stander is op 20 November 1976 in die Nylstroom Hospitaal gebore. Dit was die naaste hospitaal – twee en ’n halwe uur se ry – vanaf haar ouers se plaas buite Ellisras (vandag Lephalale) in Limpopo. Carina is doof gebore en op agt maande het sy haar gehoor "wonderbaarlik" herwin.

Sy is die jongste van drie kinders. Haar suster, Annelie, is vier jaar ouer en haar broer, Jaco, is drie jaar ouer as sy.

Carina se pa is Sarel Francois Stander. Hy het in die Bosveld grootgeword en toe hy sestien jaar oud was, moes hy die nuwe plaas wat sy pa gekoop het, oorneem omdat sy pa baie sieklik was. Carina vertel aan LitNet: "Sarel is alleen doer in die boendoe afgelaai met ’n tweeskaarploeg en osse. Maar die Waterberg was in 1952 nog wilde wêreld, met luiperds en selfs leeus in die berge. My pa was bietjie van ’n cowboy. Hy het op die perd gespring en 200 myl ver gery om beeste te gaan opkoop. Op 21 het hy die plaas waar hy vandag steeds boer, by my oupa oorgekoop. Hy het eers op 31 getrou. My ma was toe 32. Ek is gebore toe hulle 40 jaar oud was, soos my gedig ‘Wildernis’ sê: ‘uit die woorde van ’n ma en die wildheid van ’n pa’.

“My pa is ’n goeie storieverteller en vertel graag sulke verbeeldingryke, verregaande kontreistories. Ek het my kunstalent van hom gekry. (Hy het as skoolkind borsbeelde van sy onderwysers uit klei gemaak vir sakgeld.) Hy het ’n oog vir detail – pluk fyn veldblomme en toe ek klein was, het hy my geleer om my oë toe te maak en te tel hoeveel soorte voëls ek hoor. Van my twee ouers, is my pa die dromer.

“Pa is ’n joviale, emosionele man en is rustig oor sy manlikheid – hy huil maklik oor ander se lief en leed. Hy huil as ’n kind gebore word, as dit reën en by troues; hy kan so kwaad raak dat hy wil moor; hy lag so lekker dat lagbuie gereeld in hoesbuie oorgaan. Hy hou van mense en klassieke musiek en geskiedenis – programme op die radio wat hy al jare lank stiptelik volg. Ek het my avontuurlus en vryheidsin van hom gekry. Hy is ’n man van die grond. Ons deel ’n diep liefde vir die natuur.

“My ma, Truiki Stander, het grootgeword op ’n plaas buite Brits. Sy was bietjie van ’n nerd, ’n kultuur-junkie en altyd lief vir tale. Sy het Duits en Afrikaans by die Universiteit van Pretoria geswot en toe vir veertig jaar lank dié vakke onderrig. Meestal vir matrikulante, maar by tye vir volwassenes. Sy het ook redenaars en debatte en sulke dinge behartig. Sy sal gereeld in ’n gesprek opspring as ’n woord haar tref en dit gou gaan naslaan – die oorsprong, die presiese betekenis. Sy het ’n fyn humorsin wat neig na ironie en woordespel. Woorde roer haar werklik tot in haar gebeentes.

“Van my helderste herinneringe as kind is waar my ma se leerlinge Duitse gedigte voordra en die praatkoor Raka van Van Wyk Louw opvoer. Ek was so vier jaar oud en kon nog nie lees nie, maar het probeer om die woorde van Marais se ‘Dans van die reën’ en ‘Mabalêl’ te onthou. Wanneer niemand kyk nie, het ek dié gedigte (vol verdraaiings) voor die badkamerspieël opgesê. Hierdie verse het waarskynlik my siening van die Afrikaanse digkuns en Afrika gevorm – ’n eksotiese, geheimsinnige, gevaarlike plek.

“My ma is baie uitgesproke, eerlik, nogal kwaai, maar deernisvol. Niemand smokkel met haar kop nie. Sy het ’n geweldige sin vir reg en geregtigheid, al druis dit ook hoe teen die bestaande orde in. Sy is ’n vegter vir individualisme – ek het grootgeword met mense van alle geure en soorte aan huis. Boemelaars en professore het kom oorslaap.

“My ouers het van jongs af kuns- en skryftalent in my raakgesien en dit aangemoedig, sonder om ooit die pen uit my hand te haal. Hulle is deurdrukkers, mense met ’n sterk oorlewingsinstink. Ek raai dis na aanleiding van hulle voorbeeld dat negatiewe resensies en afgekeurde manuskripte my nie sommer omvergooi nie. Wanneer teleurstellings tref – ongelukke, misoeste, droogtes, vloede, terminale siektes, dood – raak hulle prakties. Dit is een ding wat ek by my ma afgekyk het: die vermoë om ’n oomblik lank te rou, op te staan en te kyk wat mens kan maak uit die rommel en die reste wat voor jou lê.

“Ek het opgegroei met geborge vryheid – die oop deur om te verken, te skep en myself kreatief uit te leef. Albei my ouers het ’n besonderse, byna tasbare Godsbewussyn. Verhale oor wonderwerke en die teenwoordigheid van die bonatuurlike is sommerso oor die mieliepap heen aan kombuistafel vertel. Onopgesmuk. Alledaags.

“Die afgelope tien jaar neem ek hulle elke jaar saam op reis. Hulle is fantastiese reisigers: entoesiasties, aanpasbaar en veral nuuskierig.”

Carina skryf haar eerste gedig toe sy agt jaar oud is nadat haar enigste maatjie na ’n ander dorp verhuis het, vertel sy in ’n onderhoud met Marlise Joubert op Versindaba. “Daardie aand, terwyl ek besig was om te bad, het die eerste versreël my bekruip. Ek het dit dadelik neergeskryf: Die ‘Leonie-week’ was ’n hele bladsy lank. ‘As ek eendag groot is,’ het ek gesê, ‘gaan ek gedigte skryf.’ My ma het geantwoord: ‘Hierdie is ’n gedig’, en vir my ’n boek gegee waarin ek my versie kon neerskryf. Van toe af het ek in die middae na skool met Opperman se Groot Verseboek en ’n gehawende HAT gesit en lyste gemaak van woorde wat vir my mooi is. Ek het geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord wou wy.”

Op elfjarige ouderdom maak Carina vir haarself die reël dat sy elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf. Van toe af het sy elke jaar so vyf-en-twintig verse geskryf – ’n ritueel wat sy volgehou het totdat sy sewentien jaar oud was. Sy het nog al daardie verse.

Vanaf Carina se twaalfde jaar is haar broer en suster reeds uit die huis. Sy was alleen saam met haar ouers op die plaas en het amper soos ’n enkelkind grootgeword – meestal in grootmens-geselskap, wat sy stimulerend en fassinerend gevind het.

Sy bring haar laerskooljare aan die Laerskool Ellisras deur en is vanaf 1990 ’n leerling aan die Hoërskool Ellisras in Limpopo. As hoërskoolleerling neem sy deel aan talle debat- en redenaarskompetisies. Op skool verkoop sy haar kunswerkies sodat sy die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom kan bywoon. Op vyftien het sy genoeg kunsgeld gespaar om self die R700 vir die week van die Skryfskool te betaal. Sy woon die Skryfskool drie jaar (1992–1994) lank by. Die eerste twee jaar is sy die enigste skoolkind. “Om regte skrywers soos Antjie Krog en Henning Pieterse in aksie te sien, het my vinnig uit die fase van tienerpoësie geklap,” vertel sy aan Etienne Bloemhof op LitNet.

In matriek (1994) wen sy die ope afdeling van ’n nasionale skryfkompetisie van die Congress of South African Writers (COSAW) met die kortverhaal “In ’n neutedop”. Dié verhaal is in 2006 gepubliseer in ’n bundel met die gelyknamige titel wat vir skole voorgeskryf is (Bateleur, saamgestel deur Izak de Vries). Twee ander verhale wat Carina as skolier geskryf het, is ook later voorgeskryf vir skole: "Kleurblind" en "So begin haar storie" is opgeneem in Braaivleis in die bos en ander verhale, saamgestel deur Neil Cochrane (Aktuapers, 2003).

Reeds terwyl sy nog op skool is, word Carina se gedigte ook in versamelbundels opgeneem. Vyf gedigte word in Poort, ’n tydskrif van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, opgeneem, twee gedigte in Hans du Plessis se Kamers en twee verse in Antjie Krog se Losvoor wat in 1994 deur Shuter & Shooter gepubliseer is.

Op die gebied van beeldende kuns neem sy privaatklasse in pottebakkery en kuns en maak sy kuns op bestelling. In 1994 ontwerp sy ’n inkleurboek vir die Departement van Gesondheidsontwikkeling.

Op skool blink Carina veral op kulturele gebied uit, asook op leierskapgebied. Sy is redakteur van die skoolkoerant, voorsitter van die debatsvereniging en die jeugkerk en skoolprefek. Sy verwerf ook kleure in redenaars, waar sy ’n semifinalis is in die nasionale ATKV-redenaarskompetisie, asook vir debat, waar sy ook in die nasionale kompetisie van die Rapportryers ’n semifinalis is. Die trofee vir die Beste Vroulike Byspeler op provinsiale vlak word aan Carina toegeken en sy verwerf ook kleure vir Koor. Sy ontvang haar skool se wisseltrofee vir die Kultuurpersoonlikheid van die Jaar in 1994.

Die invloed wat haar grootwordomgewing op haar skeppende sy uitgeoefen het, beskryf sy as volg in ’n onderhoud op Versindaba: “Die plaas, Bergfontein waar ek grootgeword het is afgeleë. Vanuit die berge het die visarende gekom en die jakkalse, ystervarke, koedoes, klipspringers, luiperds. Ons het hulle gehoor, soms gesien, die spore herken. Wanneer die boorgat opdroog, het ons gesin in die Mokolorivier tussen die waterlelies en riete gebad. Hierdie landskap het my gefassineer, ontroer, woedend gemaak en lief. Die natuur het ook my belewenis van die erotiese gevorm. Ek wou daaroor skryf.

“Ek was tien jaar oud toe ons elektrisiteit gekry het en ’n televisie. Voor daardie tyd is my verbeelding wakker gemaak deur my ma se boeke en my pa se kontreistories. My ouma wat by ons gebly het, het graag rymspeletjies gespeel en ons sou partykeer sommer ’n hele gesprek net in rymsinne praat. Visuele prikkels was die bekende: in die houtplafon en leiklipvloer van die plaashuis, het ek verbeelde diere gesien; daar was gesigte in die vlamme; ek het beeldjies van miershoopklei gemaak. Vandag nog dryf die visuele my om te skryf.”

Carina se talent vir kuns en skryfwerk het saam-saam ontwikkel. Sy is soggens voor skool deur haar ma en pa wakkergemaak om eers te teken voordat sy skool toe is. Sy vertel verder aan Hanlie Retief: “Dan’t ek daar gelê en teken aan die houtgreine van die plafon, die deure.”

Die besef het eers later tot haar deurgedring dat nie alle kinders so gelukkig was soos sy om só vry en kreatief groot te word, met al die geleenthede om haar talente uit te leef nie. “Dis eers by vriende waar ek besef het wat vir my doodgewoon is, my kreatiwiteit wat my ouers sonder oogknip aanvaar het, is nie heeltemal die norm in die wêreld daarbuite nie.”

Carina matrikuleer in 1994.

Verdere studie en werk

In 1995 skryf Carina haar in vir die graad BA (Beeldende Kuns) aan die Universiteit van Pretoria. Behalwe die vakke wat deel is van die Beeldende Kunste-graad neem sy ook filosofie, pedagogiek en Sepedi. Sy dien as komiteelid van Studentekultuur en is verantwoordelik vir konserte (1995–1997) en bemarking en publikasies (1998). Sy skryf ook kuns- en boekresensies vir Die Perdeby, die weeklikse kampuskoerant en organiseer die Wedvlug-skryfkompetisie vir universiteitstudente. Sy behaal haar Beeldende Kunste-graad in 1998.

Oor haar studentejare vertel Carina vir Die Perdeby wat sy onthou: “Om in die son op Suidkampus te beitel, sweis, swets en lag terwyl die Beatles speel. Om elke naweek te dans dat die vloere vonk. Hoe wow dit was om vir die Die Perdeby stories uit te snuffel. Om die Vlieg-bundel vir Studentekultuur saam te stel. Ek was in Magrietjie en moes twee keer die Eerstejaarskonsert skryf – ek onthou hoe vrekskaam ek was én hoe opgewonde toe dit ’n prys wen. Om vakansies saam met vriende na Zimbabwe, Zambië, Malawi en Zoeloeland te toer en daar saam met swart oumas op landerye te werk, kliniek en poppekas te hou, bakstene te maak, water uit putte te skep, om ’n te vuur sing.”

In haar eerste jaar op universiteit word haar kortverhaal "’n Viking se voorskoot" opgeneem in die bundel Drif, saamgestel deur Lindeque de Beer (JP van der Walt-uitgewer, 1995). Die volgende jaar wen sy ’n derde prys in De Jager-HAUM Kagiso-FNB se kortverhaalwedstryd. Sy wen ook Finesse se Millennium-kortverhaalwedstryd in 1999. Sy publiseer in hierdie tyd ’n aantal gedigte in Tydskrif vir Letterkunde.

In 1998 organiseer die Suid-Afrikaanse Waterverfvereniging die kunswedstryd Eiers vir Afrika. Die wedstryd is in Desember 1998 bekend gemaak en in Februarie 1999 het hulle uit 97 inskrywings wat ontvang is, 66 vir die uitstalling uitgesoek. Carina se inskrywing “24 eggs in 1 day” in gemengde medium is as die wenner aangewys. Dit het bestaan uit ’n houtpaneel met 24 afdelings wat elk ’n ander voorwerp van herwinde Afrika-materiale bevat. Daar was ’n volstruiseier, sade, akkerdoppies, ’n bal waarom tou gedraai is, draad, pampoentjies, balle, eierhouers, Coca-Cola-blikkies, vere en draad, ’n bal wat vol saad geplak is, ’n klein skilpaddop, sonneblomsaad en ’n veer in ’n volstruiseier. “Ek wou die diversiteit van Afrika in een dag uitbeeld,” het Carina aan Janine Morris (Beeld, 13 Maart 1999) vertel. “Afrika vorm ’n eenheid, maar bestaan uit uiteenlopende kulture, lande en nasies net soos een dag uit 24 uur en ’n warboel uiteenlopende emosies bestaan. Die eier of eiervorm maak deel uit van daardie dag.”

In 1999 verwerf sy haar BA Honneurs-graad in Beeldende Kuns met beeldhoukuns en visuele kommunikasie as vakke. Haar beeldhouwerke word onder andere gekeur vir uitstallings by Sasol Nuwe Handtekeninge (Pretoria Kunsmuseum), PPC Beeldhouer-uitstalling (Pretoria Kunsvereniging) en die FNB VITA Awards-uitstalling by African Window.

In 2004 en 2005 doen sy ’n MA-graad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad en behaal dit cum laude. Gedurende haar nagraadse studiejare ontvang sy die volgende beurse: Prof JJ Smith-beurs van R11 000, die Harry Crossley-beurs van R4 000 en die KW Johnstone-beurs van R3 000.

Carina beskryf haar beeldende kuns as ’n spel tussen natuur en bonatuur. “’n Jakkals ruik aan ’n vrou se hand: na wie aard ons? Wat is die verskuilde aard waarmee ’n lewende wese gebore word? Waar aard ons, waar voel ons tuis? Die aarde as planeet verskyn in ’n aantal sirkelvormige skilderye, maar uiteindelik wens my kuns vir die terugkeer na Eden of die Nuwe Aarde. As die kind ’n pofadder onder ’n druiwetros vashou, is dit asof vrede tussen dier en mens en God herstel.” (http://theresawilds.wix.com/carinastander#!visuele-kunstenaar)

Terwyl Carina op universiteit was, het sy in ’n kommune saam met vriendinne gewoon. ’n Vreemde man, Gerrit van Niekerk, wat ingenieurswese studeer het, het toe ook daar ingetrek. Sy het hom probeer vermy, omdat sy "ingenieurs verpes het omdat hulle oor alles stry en nooit ’n grappie kan vang nie”.

Sy vertel in die verhaal “Tweespoor” wat sy vir Ware Liefde / Romances to Remember (saamgestel deur Corlia Fourie, Human & Rousseau, 2008) opgeteken het hoe sy een aand, terwyl Gerrit beskuit bak, vir hom vra of hy ’n reisdroom het, "want daar is ’n stuk aarde wat haar al sedert haar kinderjare roep: die Amasone. 'Wag, laat ek jou my droom wys,' sê hy en gaan haal ’n boek wat hy as laerskoolkind present gekry het – ’n oerwoudboek.

“Ek was heimlik verlief, maar dié krulkop wou net my reismaat wees. Saam het ons ons rugsakke gepak, Cambridge bestorm en in ’n driehonderd jaar oue houtskuur gaan woon. Die landheer, John McGill was ’n bebaarde afgetrede beeldhoudosent. In sy studio het ek hout gekerf, brons gevyl, hars gegiet en só my verblyf in die ruim solder betaal. (...)

“Midsomer het Gerrit se broer in Italië getrou. Die Toskaanse klipdorp Pitigliano was ouer as die berge en reddeloos romanties: daar was kerktorings met koperklokke, kasteelmurasies, sipresse, papawervelde, katjiepierings, olyfboorde en wingerde. Die oggend van die troue het al veertien gaste salami gekap en veldblomme gepluk. (...)

“In Italië het die verliefdheid Gerrit op die skouer getik. Hou my dop, het hy gesê, en kyk hoe dit in liefde verander. My eie hart was egter onder narkose. Vir my was hy nou ’n boesemvriend, my reismaat. Sonder dat ek hom ’n greintjie hoop gegee het, het hy ’n volle jaar lank gewag dat my hart stadig ontwaak.

“Ná agtien maande in Engeland het die Skotse Hoogland gewink. Hier het hy blinkoog gevra of ek sy meisie sal word. Ons blyplek was ’n kothuis wat 150 jaar tevore aan die rand van Fairies Wood gebou is. Ons landheer, ’n eksentrieke Frazer, se familie het sedert vyftientoet op dié landgoed in die vallei naby Loch Ness gewoeker. Ons huisie had twee slaapkamers, vuurherde en ’n liggeel houtkombuis. Die eerste aand in die woudhuis het ons die Bybel oopgeslaan by Jesaja 63:14 en verstom gelees: ‘Soos ’n trop beeste na ’n groen vallei toe afgaan, so het die Gees van die Here sy volk na ’n woonplek toe gebring ...’ (...)

“In Skotland werskaf ek vir die beeldhouer Gerald Ogilverie Laing in sy kasteel-studio en by Kilmorack Gallery – ’n katedraal tussen die berge wat in die grootste kunsgalery in die Skotse Hoogland omskep is.

“Ná ’n halfjaar in Skotland was dit tyd om die waterval en rooiborsvoëltjie, die dynserige berge wat ligpers en spookwit skakeer, die wildeaarbei en rankroos by die voordeur te groet.

“Met 2002 se sonsverduistering is ek en Gerrit saam met sy gesin na die Kruger-wildtuin. Een middagete het ek ’n waatlemoen op my kop gedra, toe ’n wildvreemde man my voorkeer en vra of ek oor drie dae op safari wil gaan – vir ’n volle maand, gratis. In ruil daarvoor moes ek vir tien Nederlandse toeriste kook.

“Vir die eerste keer vandat ek en Gerrit twee en ’n half jaar tevore ontmoet het, sou ons mekaar vir langer as ’n dag nie kon kontak nie. Hy was rustig oor ons pad saam vorentoe, maar ek was benoud dat ’n huwelik my vryheid sou steel. (...) In die Okavango het die roete vir my helder geword. Die mekoro met toeriste het dieper die delta in vertrek en ek moes drie nagte alleen op Makwena-eiland agterbly. Met ’n sarong om my lyf en ’n kop vol vlegsels het ek deur die oopgerolde tentflap na die maan gekyk. Ek het onthou hoe vry Gerrit is, hoeveel eenheid daar in ons gedeelde vryheid lê. Toe het ek my koplig aangeskakel en geskryf: Nou weet ek, oor grense heen, jy is vlees van my vlees en been van my been.

“Gerrit het al die pad van Pretoria af gery om my in Kaapstad te ontmoet waar die safari geëindig het. Met die weersiens was daar genoeg elektrisiteit in die lug om die ganse Koeberg van krag te voorsien. Een skemerdag, toe ek dit die minste verwag het, het hy my geblinddoek na ’n klipkop buite die stad ontvoer. Daar het ’n pootjiesbad op my gewag met kerse in ’n kring. Binne-in die bad was geweefde kussings, bakkies vye en neute, kaas en druiwesap. Ons het gesels oor die drie jaar saam, ons het gebid. Met donderweer in die verte het hy gevra of ek die langpad saam met hom sal vat. Die ring was twee blaartjies van rooigoud wat om ’n ambersteen krul. Gerrit het dit self met ’n ystervarkpen uit modelleerwas gekerf en by ’n juwelier laat giet.

“Stiptelik drie jaar nadat hy as vreemdeling in ons studentehuis ingetrek het, het ons getrou. In die tuin op die Bosveldplaas waar ek grootgeword het, is houttafels in ’n spiraal onder die reuse maroelaboom gepak. Fakkels en lanterns is aangesteek. Tagtig gaste was uitgedos in safaridrag, Basothokomberse en Ndebelerokke. Ek was kaalvoet, in wit. Die broers en suster het bekfluitjie en jembetrom getokkel, tjello en kitaar. My pa se speenvark en skaap was op die spit en soetmielies het oor die kole gesis. Daar was ’n stewige pot mieliepap, stervrugte en druiwe in uitgeholde boerpampoene, geroosterde groente, ’n kruiwa vol potbrood en biltongbrood, koeksisters en kolwyntjies, gemmerbier en moerkoffie. Later het ons in die skuur getiekiedraai.

“Agt maande later het ons Kaapstad toe getrek sodat ek ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk kon aanpak. Drie studiebeurse het my in staat gestel om voltyds te studeer. Bedags het Gerrit oorkant my by die kombuistafel geprogrammeer. Sy seeklippie-oë en stoppelbaard was mooi om na te loer. Soggens het bye in die peperboom gezoem. Daar was ’n kaggel en ’n pootjiesbad in die huis. Wanneer die suidooster gewaai het, het die dakbalke, gemaak van ’n ou appeltrok, gesels.

“Ná agtien maande in Houtbaai het ons drie-uur een Saterdagoggend wakker geskrik met inbrekers in die huis. Op pad na ons slaapkamer het drie mans Gerrit met geslypte metaalstawe gesteek en gewurg. Hy het met sy lewe geveg om te keer dat hulle by my uitkom. Ek het deur die oop venster gespring en gevlug. Toe die inbrekers hoor dat ek buite is, het al drie my agtervolg. Die aanvallers was skaars ’n armlengte ver, die ysterstawe reeds in die lug, gereed om my te steek. Skielik het ek die Krag ervaar. Ek het my vinger uitgesteek en hard uitgeroep: ‘In the name of Jesus Christ you will not touch me!’ Hulle het die wapens laat sak en met ’n uitdrukking van totale skok na my gestaar. Toe het hulle gevlug.

“Hulle het Gerrit vir dood agtergelaat. Hy het ’n kopwond, ’n wond aan sy arm en ’n gaatjie in sy een longsak gehad. Sy nek was vol skrape waar hulle sy are probeer steek het. Hy het op die bebloede vloer gekniel en vir die siele van sy aanvallers gebid. Ek moes die vloer drie, vier keer mop voordat die water helder was. Snags was hy die ene angssweet. Soms was hy so taai dat ek oortuig was hy bloei. Ons het gedurig wipplank gery tussen uiterse vrees en verwondering. (...)

“Op my 29ste verjaardag word ons kinderdroom bewaarheid toe ons in die louwarm Amasonerivier bad. Visse vlieg met borsvinne deur die lug. Vleespienk rivierdolfyne blaas en spuit om ons. Hoog in die takke is ’n luidier. Die skarlaken-en-groen papegaai is so lank soos Gerrit se arm. Die blou-en-geel papegaai vlieg met die son op haar bors. Ons roei deur die vloedbos. Die waterlelies in die moeras is so groot dat ’n kind daarop kan dryf. (...) In Peru snuffel Gerrit ’n piepklein rooi poncho tussen stapels wolklere uit. Die kappie is met llamalammers geborduur. Hy glimlag: ‘Vir ons dogtertjie ... eendag.’

“Kersfees 2005 bid Gerrit: Die wêreld is wyd – waar op dees aarde moet ons nesskop? Hy kry die gevoel dat hy die atlas op bladsy 92 en 93 moet oopmaak. Skepties wonder hy hoe een plek op twee bladsye kan wees. Wraggieswaar: een kaart is ’n vergroting van die ander! Hy laai dié hoekie van Google Earth af en bewonder dit heeljaar. Elf maande later bel hy die eienaar op die dag dat die grond vir die eerste keer geadverteer word, en ons koop dié erf in die Tsitsikammawoud ...”

Carina se ouma Anna is met Alzheimersiekte gediagnoseer toe Carina 12 jaar oud was. Carina het haar ses jaar lank versorg: gebad, aangetrek, slaaptydstories vir haar gelees, vertel sy in Beeld (26 September 2011, "Soos ouma leef hul anderkant werklikheid"): “Omdat ek wou. Omdat ek iets wou doen om dankie te sê, want toe ek ses jaar oud was en Ouma se verstand nog helder, het sy my leer rym. Sy sou ’n woord sê en ek moes vinnig met ’n rymwoord antwoord totdat ons later spontaan in rymsinne sou praat – soms ’n hele gesprek wat rym!”

Carina se ouma is oorlede ’n week voor sy universiteit toe is. Sy onthou: "Haar liggaam was nog warm toe ek langs haar inkruip met ’n potlood en papier om haar vir oulaas te teken. As ’n soort herbesoek aan Ouma het ek twee jaar lank een middag per week Alzheimer-pasiënte in Cambridge en die Skotse Hoogland versorg. Een dag kom ’n nuwe pasiënt, naamkaartjie in die hand, voor my staan. Verwonderd, verdwaas. Versteurd, ja, maar haar woorde was die klokhelderste definisie van waansin: ‘This is me name, but I can’t find me anywhere.’”

Carina vertel aan LitNet: “Ons het vier jaar in Kaapstad (in Houtbaai en Lladudno) gebly en in daardie tyd van die huis af gewerk. Gerrit as programmeerder en ek as skilder en vryskutjoernalis vir vyf tydskrifte. Ons het besef dat ons die stad nie werklik nodig het nie, maar dat ons al ons werk oor die internet kan aanstuur. Ons het in Januarie 2008 Tsitsikamma toe getrek. Ek het ’n jaar hier gewoon voordat die tydskrifte besef het ek is nie meer in Kaapstad nie. Veral vir reisartikels maak dit geen verskil nie. In die stad het dit my ’n uur geneem om lughawe toe te ry; hier neem dit my ’n uur en ’n half. Die Tuinroete is ook nie ’n konserwatiewe soort platteland nie, daarvoor is dit veels te internasionaal. Hier is meer as een Italiaanse restaurant, ’n regte Portugese bakkery, ’n boekmaker, puik boekwinkels en viswinkels, ’n string deli’s, kunsgalerye.

“Om hierheen te kom was ’n soort semigrasie – die laaste kans wat ons die land wou gee voordat ons emigreer as gevolg van die gewelddadige misdaad. En ja, dit is veilig hier in die kuswoud. Ons draf in die berge, stap volmaan op die strand, word wakker saans van bosvarke buite die huis – nie boewe nie. In ons straat het mense slegs heinings om hulle honde binne te hou. Daar is net ’n venster tussen my kind en die blouape en bosbokke in die tuin. Vryheid: dis hoekom ons hier is.”

In 2006 word Carina se eerste digbundel, die vloedbos sal weer vlieg, deur Tafelberg uitgegee. In 2004 en 2005 het Carina 45 nuwe gedigte geskryf vir die meestersgraad in kreatiewe skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad. “Omdat ek ’n beeldende kunstenaar is, is my beeldetaal-klier effe ooraktief. Joan Hambidge (alias Oubasie) was ’n baie toegewyde dosent. Sy het die lat ingelê totdat ek verstaan het van beeldkongruensie en konkreetheid. Die kursus het my ook geweldig baie geleer oor die tradisie waarbinne ons skryf. Van die sewentig verse in die bundel is vyf en twintig lank terug geskryf – sommiges selfs in my hoërskooljare. (...) Daar is egter dinge waaroor ek twee en twintig jaar lank probeer skryf, soos die skietongeluk waarin my broer sy oog verloor het. Laasjaar (2005) het die vers ‘blindelings’ uiteindelik ontstaan,” vertel Carina aan Etienne Bloemhof (op LitNet). die vloedbos sal weer vlieg is in 2007 op die kortlys van die Universiteit van Johannesburg se Debuutprys.

Op Versindaba beskryf Carina die deurlopende tema in hierdie bundel as volg: “Die woord ‘vloed’ in die vloedbos sal weer vlieg herinner aan oorvloedigheid en aan ’n skare: ’n ‘vloed’ van mense. Om te sê dat die vloedbos weer sal vlieg, is ’n profetiese uitdrukking van hoop, ’n verwagting dat daar oomblikke is wanneer die aarde kan ‘vlieg’ of floreer.”

"’n Vloedbos is ’n mangliet of 'mangrove': die wortelboom van die kuswoud. Nadat ek die bundeltitel gekies het, het ek in die Amasone gereis en gehoor dat die oerwoud die varzea of 'flooded forest' genoem word. Ek het sowaar deur ’n vloedbos geroei!” vertel sy aan Etienne Bloemhof.

Sy vertel verder: “Die sewentig verse is in vier afdelings verdeel. Die ‘Oesjaar’-afdeling gaan oor my grootwordjare in die Waterberg – die landskap en mense wat my gevorm het. Ek speel met werklikheid en bowerklikheid. Die tweede afdeling, ‘Karkaskaal’ gaan oor seksuele geweld. Hier erken ek my vrees om die slagting in ons land in die oë te staar én my vrees om nie te staar nie. Die donker geheim word óópgeskryf, sodat die Verlosser-argetipe kan verskyn en inisiasie plaasvind.

“Die reisigers in die ‘Ewenaar’-afdeling is ook geliefdes. Die dinamika van die huwelik is een van vryheid en eenheid. Die natuur is die ruimte vir sensuele ontwaking, kreatiewe vloeiing, eenwording. In die slotafdeling, ‘Groeikrag’, vloei die ek-God-verhouding uit in ’n ek-kosmos-verhouding. Wanneer die vloedbosse geseën word, is daar herstel vir Afrika. Die terugkeer na Eden, die staat van onskuld, kom in vele verse voor.”

“Die groot vonds van enige gedig is sy beeldgebruik,” skryf Marius Crous (Die Burger, 29 Januarie 2007), “en wanneer ’n visuele kunstenaar soos Carina Stander gedigte skryf, verwag ’n mens skerp waarneming en ’n juiste beskrywing van beelde. Wat haar beeldgebruik soveel varser maak, is dat sy aansluit by die bekende in haar omgewing en dit dan metafories omvorm.” Hy voel egter dat sy moet waak teen ouderwetse woordgebruik en te veel woorde.

Vir TT Cloete (Beeld, 30 Januarie 2007) verken hierdie debuutbundel ’n besonder wye plaaslike wêreld, maar ook ’n wêreld van ander nasionaliteite en landskappe. “Daarbenewens is daar intieme en delikate liefdesgedigte, naas liries religieuse gedigte, daar is gedigte van medelye met lydendes, met loopneuskinders, vigswesies en verkragtes – ’n ruim verskeidenheid. (...) Die gedigte is vol sonskyn, vol lag en sing en klank (‘’n vink rinkink in klinkende taal’), benewens die pynlike. Veral word hier baie van saad gepraat en dit voorspel ’n talent wat gevul is met baie mooi dinge wat nog kan kom.”

In Volksblad van 27 Februarie 2007 skryf Bernard Odendaal: "’n Sintuiglike weelde kenmerk die digteres se werklikheidsbelewing – waarskynlik meer akuut gemaak deur die feit dat sy doof gebore is, maar tog op wonderbaarlike wyse haar gehoor teruggekry het (‘Vrygeborene’). Die weelde van daardie belewing spoel oor in haar digkuns, wat sprankelend klankryk aandoen en uitmunt deur sy frisse beeldingskrag.” Volgens hom is die vloedbos sal weer vlieg is ’n opwindende debuut.

“Stander se debuut tref jou met sy ruie sintuiglikheid en die tuimeling van beeld op beeld,” skryf Francois Smith. “Dit is ’n woordgevoeligheid wat in die eerste afdeling, ‘Oesjaar’ gekoppel word aan grootwordjare op ’n plaas, en die poësie wat dáár ontstaan, is gewortel in die aardse, in die geluide, kleure en teksture van dae en nagte in die veld. Maar dit is ook poësie ingegee deur die ‘erflating’ en ‘voorbeeld’ van ouers en grootouers, ’n intieme verwantskap tussen mense waarin daar ’n verband ontstaan tussen boer met verskalwers en boer met verse (gedigte). Die mistieke strekking is opvallend, ook ’n aardmistiek, en die skryfkuns word ’n bykans rituele opwekking van die grondstowwe.”

"Carina se debuut beïndruk ’n mens met die woord-, klank- en beeldvaardigheid," skryf Daniel Hugo op LitNet. "Op die titelblad word die inhoud van die bundel aangegee as ‘sewentig vry verse’. Soos altyd in die geval van goeie poësie is die verse nie werklik vry of los nie, maar goed gekonstrueer met ryme, halfryme, refreine en sirkulerende elemente. Dit is ’n meerdimensionele bundel wat tot die oog, die oor, die hart en die verstand spreek."

Henning Snyman (Rapport, 6 April 2007) sê: "Carina is ’n jong digter wat vars kyk na die wêreld, ongerep en vry van ’n verstikkende lading van teorie en intertekstualiteit. Nie dat intertekstualiteit nie ’n teks se onderbou kan versterk nie, maar dis heerlik bevrydend om iemand te vind wat daarsonder kan dig en pragtige poësie kan skep. Stander se gedigte is inderdaad ’n oorvloed van beelde en geil waarnemings, maar kan dit dra omdat die tematiek intens daarmee verweef is. Die vier afdelings behels ’n wye bestekopname wat die mens teenoor die skepping stel, die gewelddadigheid en wreedheid, die erotiek en die godsdiens. Dis ’n moedige onderneming in die hand van ’n ervare digter, te meer so vir die beginner. Maar dié debuutdigter kry meer reg as wat sommige ervare digters kan vermag. Miskien deur die oorweldigende skeppingsdrang, miskien vanweë haar opleiding in die skone kunste, maar veral danksy een sterk, deurlopende leitmotif: die mens staan in sy onbegrip gekonfronteer en weerloos teenoor en terselfdertyd afhanklik van ’n Goddelike Wese. Feitlik in mitologiese vorm en formaat probeer die digterlike siel die oorweldigende en verwarrende indrukke poëties karteer. Asof die geweld van die skepping hier oorgaan tot die geweld van die gedig en die digterlike skeppingsproses. (...) Daar is oordaad, soms te veel teenwoordige deelwoorde, soms haastige oorgange. Maar dié jong kunstenaar ervaar die wêreld rondom haar met oog en oor, absoluut sintuiglik, en beskik oor die vermoë van beeld en woord. Met meer ervaring sal die verse gestroop word, maar intussen geniet die leser die sentiment van geil woord en beeld.”

Wanneer maak sy tyd om te skryf? Aan LitNet vertel sy: “Daar is drie dinge waarsonder ek nie kan skep nie: verbeelding, stamina en ’n sperstreep. Verbeelding is wat dit is: ’n binne-sintuig. Stamina is ’n soort hardkoppigheid, ’n single-minded wil om aan te hou skep, of mens nou wil of nie. ’n Sperstreep of deadline is ’n grens wat ek skep en waarby ek eenvoudig hou. Want wanneer die wilde perde van verbeelding deur my tuin hardloop, is daar ’n tyd om hulle te ry en ’n tyd om hulle tot rus te bring. Soos almal griffel ek ook maar oral inspirasie-notas neer. Die werklike verwerking en voltooiing van idees gebeur dan in die drie ure bedags wanneer my peutertjie slaap en van sewe tot elf saans as alles stil is.

“Daar was ’n stadium wat ek agt weke aanmekaar sou werk sonder om naweke te halt, maar ek vind dat tyd en effektiwiteit nie noodwendig parallel loop nie. Daarom maak ek nou weer tyd vir ou rituele wat my help om stamina te behou: klim twee keer per week berg, gaan boogy, rumba en tango elke week saam met my man, bid skemertyd op die strand, speel behoorlik met my kind, kuier in die hangmat met vriende, fliek. Eers daarná oorleef ek maklik ’n week waarin ek artikels of ’n kortverhaal, opdragvers en nuwe skildery moet inhandig. Werk hard, speel hard – dís die ritme wat my laat rimpel van kreatiewe plesier. En as ek ná ’n groot projek voel dat ek getrou genoeg was aan verbeelding, stamina en sperstreep, beloon ek myself altyd met ’n reis na ’n wonderlike plek waar ek weer nuwe skryf- en kunsidees kan versamel.”

woud van nege en negentig vlerke word in 2009 by Tafelberg uitgegee. Oor die dieper betekenis agter die titel van die bundel sê Carina aan Marlise Joubert (Versindaba) dat voëls die simbole van onsterflikheid is, omdat hemelwesens vlerke het. “Engele word ook verbind met die lug, wind en vrymaking. Die swerms trekvoëls in my verse staan vir grensloosheid, vir reis. Nege en negentig vlerke is ’n amper-daar. ’n Byna-volledigheid. ’n Afvlerkdier. En ’n woud is ’n droomwêreld, ’n primordiale ruimte van skoonheid en gevaar, ’n plek om te verdwaal. Heelwat van die verse is in paradyslike grond geplant, maar daar is byna altyd ’n spanning tussen skoonheid en gevaar. Skoonheid, wat gevaar impliseer, soos ’n vloeiende vulkaan of sneeustorting. Gevaar wat in skoonheid opgesluit is, soos die reënboogvel van ’n slang.”

Sy vertel dat die bundel vol vulkane, tropiese korale, eilande, moerasse en erotiek is. Ook vol vloede, woude, berge, swangerskap, vreemdsoortige diere en engele, gesprekke met digters, familie en vriende. “’n Tematiese hegrank tussen die twee bundels, is die reismotief. Maar waar die vloedbos sal weer vlieg meestal in Afrika afspeel, gooi ek hierdie keer die vensters oop na ander kontinente, veral Suid-Amerika. Hier is meer uitheemse spesies as voorheen.”

Carina verduidelik in Sarie (21 September 2009) aan Phyllis Green dat sy reeds drie jaar voor die boek verskyn het, die titel woud van nege en negentig vlerke gehad het en ook ’n prentjie van die voorblad in haar kop gesien het. Sy het dit geskets en in haar lêer gebêre. Sy het dit egter eers geskilder nadat sy al 70 gedigte klaar geskryf het. "Die boom op die voorblad is net ’n geraamte, maar die drie vere wat daaraan hang, is die ene lig en lewe. Ook op die agterblad groei daar nuwe blaartjies uit die voël se dooie takvlerke. Die boom is simbool van opstanding uit die dood, omdat sade herleef en wortels en takke uitloof selfs ná droogtes of brande of boomslagtery. Met sy ondergrondse wortels en takke in die lug, verwys die boom na die hemelse, aardse en onderaardse. Die boom as organiese ritueel, as seisoendraer, is deel van my geestelike identiteit.”

Die bundel is in ses afdelings ingedeel en die sentrale tema in elk is die volgende (soos aan Phyllis Green vertel):

“Die eerste afdeling, ‘vlam onder die water’ speel af op die vulkaaneilande van Hawaii, in Bolandse wingerde, langs die Kaapse kus, by Argentinië se 270 watervalle, in die Amatola en Kalifornië se woude. Hierdie gedigte is opgedra aan ‘die God van hemel en aarde’. Hy is die Vlerkman of Skutsengel wat die verdwaaldes opsoek en terugneem na neste wat sterker is as die storms.

“Die tweede afdeling, ‘vasteland, wankelland’, handel oor Suid-Amerika en Afrika. Vastelande is nie vas nie – hulle wankel: die Brasiliaanse slawe dans vir vryheid. Suid-Afrikaners immigreer, maar verlang. ’n Malawiese vrou met malaria versorg ander. Hier is die wonderwerk soms groter as die wond.

“Afdeling drie, ‘sondoop’, is gesprekke met vriendinne en met literêre voormense soos Jonker, Leipoldt en Weideman.

“In die vierde afdeling, ‘wildernis’, besoek ek weer die plaas in die Waterberg waar ek opgegroei het en waar my ouers steeds boer. Ek is nie meer ’n buikspreker vir die kind wat ek was nie, maar skryf nou oor my ouers in ’n tyd toe hulle so oud was soos wat ek nou is. Dit gaan hier oor herinneringe aan eenvoudige oorvloed en oorvloedige eenvoud.

“Afdeling vyf, ‘palm-pas’ is liefdesgedigte vir my reismaat en man. Dit speel af in die woudhuisie in die Skotse Hoogland waar ons vir ses maande gewoon het en oor ons saamwees in die Amasone-oerwoud. Dis verse oor eenwording, sensualiteit, bevrugting.

“Die sesde afdeling, ‘die nege-maande-moeras’, gaan oor die wonderlike wagtyd toe ek swanger was met ons eersteling. Die moerasse, riviere en oseane in hierdie gedigte, is ’n ruimte vir swangerskap: in die donker waterwêreld broei ’n geheim uit, ’n onsigbare seuntjie. Die bundel eindig by ’n nuwe begin: die geboorte.”

Bernard Odendaal (Volksblad, 5 Januarie 2010) is beïndruk met die "pragtige klankgebruik en beelding in woud van nege en negentig vlerke, spesifiek in die laaste twee afdelings. Die gevaar dat die ekstase-getinte lewensingesteldheid kan aanleiding gee tot inhoudelike en stilistiese oordaad, word myns insiens grootliks deur Stander vermy. Slegs die herhaalde, selfs opvallende gebruik van intensiverende of nuanserende samestellingsvorme, dikwels in verband met kleure, het plek-plek gesog wou aandoen. Ek haal ’n paar voorbeelde aan: ‘ryp-sagte buik’, ‘gebrande-oranje somers’, ‘tongpienk bloeisels’ en ‘siekblou see’. Talle besonder aantreklike gedigte deurspek egter die bundel. Dit bied ’n optimistiese lewensbeskouing wat egter nie so naïef is om die verskrikkinge en droewighede van die wêreld mis te kyk nie.”

Carina voer Catrina Aldrich (op LitNet) mee na ’n wye verskeidenheid landskappe, weerstoestande en stemmings. “Beelde van lewe en bevrugting is terugkerende motiewe in die bundel. Die kunswerk op die voorblad, deur Stander self geskilder, word op paratekstuele vlak ’n rigtingaanduider by die interpretasie van die teks, omdat dit een van die sentrale temas in die bundel op treffende wyse visueel belig. Die omslag beeld ’n skeletagtige boom teen die agtergrond van ’n blouerige naghemel uit. Die afwesigheid van sterre in dié hemelgewelf trek die aandag na die drie byna gloeiende vere wat uit die boom se dooie takke spruit. Die vitaliteit van hierdie vere is in skerp kontras met die indruk van doodsheid en verval wat die boom skep. Sodoende word die leser se aandag toegespits op die aanwesigheid van bevrugting, groei en nuwe lewe – temas wat op inhoudelike vlak sentraal staan.

“Ten spyte daarvan dat vernietiging en aftakeling in sommige afdelings en verskeie gedigte voorop gestel word, vleg Stander die temas van polsende lewe met ’n behendige kunstenaarshand dwarsdeur die bundel. Elke kwynende boom bevat gloeiende, lewende vere. Die implikasie van die titel, in kombinasie met die kunswerk op die voorblad, is dat die leser met ’n hele woud van sulke betowerende bome te make het. Die gegewe word nie beperk tot die drie vere op die voorblad nie, maar uitgebrei tot nege-en-negentig vlerke. Die getal nege-en-negentig suggereer ’n element van onvolledigheid en onvolkomenheid wat die prosesmatige voorop stel deur ’n onvoltooide, wordende siklus onder die leser se aandag te bring. Sodoende dui die titel aan dat die perspektief voortdurend op die toekomstige – op dit wat nog mag kom – moet wees. Dit is ’n aanbeveling wat beslis ook op Stander se digterskap betrekking het. Die bundel sluit immers af met ’n metapoëtiese bepeinsing oor hoe om ‘dié vroeglente’, die nuwe fase in haar lewe, doeltreffend te verwoord: ‘dit weet digter alleen’ (110). Hierdie digter het onteenseglik die gereedskap om dié voortdurende verkenningstog met haar fyn belewenis en seggingskrag so aan te pak dat haar lesers graag sal wil saamreis.”

Ampie Coetzee skryf as volg in Die Burger (19 Oktober 2009)oor woud van nege en negentig vlerke: “’n Bundel wat met verbeelding en metafoor só begin soos woud van nege en negentig vlerke van Carina Stander beloof om iets te beteken: om op die rug van ’n donkie in die see te swem/ deur ’n land bo die wolke/ oor landskappe van droom/ ’n pen soos ’n staf in die hand/ .../ om veerlig te dryf/ ­verse te skryf/ die son ’n engelkop/ vanaf ’n eselrug aanskou.

“Dit is dán moeilik om op die wyse van die prosa te her-vertel wat die metafoor op ’n ander manier ­vertel, op ’n ander manier na ­betekenis soek. Die inhoud, wat betref die spesifisiteit van tyd en plek, word grootliks oorheers deur digmiddele – ‘’n pen soos ’n staf in die hand’. (...) Dit is hinderlik dat subjekte in gedigte skielik verander; en dat sekere wendings nie verstaanbaar uit die konteks van ’n gedig kom nie. Maar dié besware wat ’n mens kon hê, is min in vergelyking met die metaforiese krag en die sterk verbeelding in die bundel.”

Vanaf 2006 vryskut Carina vir ’n aantal koerante en tydskrifte, onder andere vir Rapport Boeke, Beeld, De Kat, Rooi Rose, Insig, Sarie, Huisgenoot se boekebylaag en Lééf . Sy voer meestal onderhoude met medekunstenaars en skrywers of skryf essays en reisartikels. Saam met haar man vat sy die langpad deur Afrika, Suid-Amerika, die VSA en Europa en omskep dit later in reisstories. In 2006 en 2008 is sy aangewys as Artikelskrywer van die Jaar by die Media 24-tydskrif Lééf.

Carina het haar eerste solokunsuitstalling in 2008 in die Breytenbach-sentrum in Wellington in die Wes-Kaap gehou. Dit was getitel Aard – ’n spel tussen natuur en bonatuur.

Agt van Carina se gedigte is in Groot verseboek se nuwe uitgawe in 2008 opgeneem. Sy vertel op LitNet dat toe sy die e-pos kry wat haar vertel dat haar gedigte opgeneem is, sy gevoel het soos toe sy in matriek gehoor het dat sy gekeur is om beeldende kuns by Tukkies te gaan swot. “Al is ek (tussen Opperman, Breytenbach en meeste ander) net ’n eerstejaar met ’n eerstelingbundel, is ek nou in die geselskap van die Groot Geeste. Ore gespits, potloodskerpmaker en papier in die hand.”

Na die publikasie van die vloedbos sal weer vlieg het Carina in samewerking met Francois le Roux (die Ha!man) ’n CD met verse uit die bundel saamgestel. Haar gedigte beskik oor ’n musikaliteit wat spreek uit die refreine, rympatrone, allitererende en assonerende klank. Die woorde is nie net op papier musikaal nie, maar ook op die oor. Die CD, Vyftien musiekverse: die vloedbos sal weer vlieg, bevat 15 van Carina se gedigte wat sy self voorlees, met agtergrondmusiek en -klanke deur Francois. Dit is nooit oorheersend-dominerend nie, maar subtiel op die agtergrond. Carina se voorlesings is op sigself musiek en daaruit spreek haar kunstenaarstalent. Nie net is sy ’n beeldende kunstenaar en woordskepper nie, maar ook ’n stem-kunstenaar.

Vir die kunsliedere-produksie Nuwe woorde word nuwe liedere is ’n aantal van haar gedigte getoonset deur komponiste soos Niel van der Watt en opgevoer by Woordpoort in Pretoria in 2009 en die Woordfees in Stellenbosch in 2010. Drie van Carina se gedigte is ook getoonset deur die Nederlandse musiekgroep Souldada en word in November 2010 op hulle jongste CD, Oer de grins, vrygestel.

By die Volksbladfees in 2009 en Woordfees in 2010 is Carina deel van die kunsuitstalling Allooi, wat ’n tweegesprek tussen beeldkuns en woordkuns is. Vooraanstaande Suid-Afrikaanse visuele en woordkunstenaars is genooi om individueel of in pare twee nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreer word. Die enigste riglyn was dat elemente van sowel die visuele as woordkuns in elkeen moes voorkom. Carina was saam met Ingrid Winterbach die enigste individuele deelnemers.

Carina vertel aan Adolf van Coller van De Kat dat sy en Gerrit probeer om hulle seun Aden nuuskierig te maak oor die aarde en die mensdom en hy moet weet dat daar niks mee verkeerd is om "skaamteloos" lief te hê nie: “Voor Aden se speelvenster (my skryfvenster) is ’n bessieboom waaraan Knysna loeries op die oomblik smul. Vanoggend weer wakker gemaak deur blouape op die dak. Netnou saam getrippeldans op die wysie van ‘I’ve got joy like a fountain in my soul’. Ons lees stories, hou poppespel, bou blokkies, brrrmmm die karre, kruip oor duine, jaag seevoëls, soek met laagwater die pers seesterre in die getypoele, steek ons vingers in die anemone, teken met kryt, bou legkaart. Want ek wil hê hy moet wéét ek is hier. Dat ek síén hoe heerlik hy sy groottoon suig of sy dinosourus druiwe voer. Dat ek hóór as hy agter ’n vlieg aanhol en ‘wag, mot, wag!’ roep. Of slaaptyd die ganse heelal groet met ‘tatta blaar, tatta water, tatta maan’. Die ure wat hy bedags slaap, skryf of skilder ek soos weerlig; dan weer van sewe tot elf saans. Só het ek ’n ses-uur-werksdag. Aden is gemaklik met vaste rituele én verandering, daarom reis hy altyd saam. Laasjaar in Frankryk het ons hom vir drie weke lank elke aand in ’n ander gîte d’etape (stappershut) se wasbak gebad. Vanjaar is ’n camper van toer. Op 21 maande was hy al 26 keer saam met ons in die pens van ’n vliegtuig.”

Carina se eerste roman, Wildvreemd, word in 2011 gepubliseer. Sy het aan Hanlie Retief (Rapport, 4 September 2011) vertel dat die roman nie sommer gebeur het nie. Dit het 15 jaar gevat, is 20 keer oorgeskryf, en al wat haar aan die gang gehou het, was "geloof, hoop en liefde". En al was sy soms nie seker van haarself nie, het sy ’n onwrikbare vertroue gehad in haar karakters en in die storielyn. Die uitgewers het dit sewe maal teruggestuur aan haar en elke maal was daar ’n briefie by wat sê dat die storie sterk is en so ook haar skryftalent, maar dit was op daardie tydstip vir hulle nie genoeg nie. Sy het weer ’n jaar daarna probeer en dit ingeskryf vir die romanwedstryd, met dieselfde gevolg: “Ek onthou hoe’t ek vir my troostee gemaak en by die venster gaan sit en vir die eerste keer in die 15 jaar gehuil.”

Jeannette Ferreira het in haar keurverslag vir Carina praktiese wenke gegee wat haar gehelp het om op die regte spoor te kom. Aan Hanlie Retief: “Ek’s lus en koop ’n kas wyn en blomme vir almal wat die manuskrip deur die jare afgekeur het, want hulle’t my gered van om die manuskrip te vroeg op die mark te sit.

“Die eerste keer dat my storie in my kop gespring het, was ’n sin uit my hoofkarakter se mond, nou op die eerste bladsy van my boek. Dit was in 1996, ek het kuns op Tukkies geswot en ek was in die stort, toe spring hierdie sin in my kop: stilte is ’n oergeluid.

“Ek het geweet dis die eerste sin van my roman. Ek het dit neergeskryf en gaandeweg het die vrou in my gedagtes vorm aangeneem. Sy is stom, en die rede daarvoor is omdat ek haar een wou maak met die diere, die stemloses. Sy is die verpersoonliking van stemloosheid.”

Gedurende die 15 jaar het die gebeure in die verhaal nie eintlik verander nie, maar een oggend – “nogal terwyl ek tande gevlos het!” – het sy skielik tot die besef gekom dat die verteller plek moet maak vir agt ek-vertellers en dit was net wat die manuskrip nodig gehad het.

“Ná soveel jaar wat ek met die karakters saamgeleef het, het ek hul stemme gekén, ek het presies geweet hoe elkeen klink, ek het toe bloot die mikrofoon aan hulle gegee. En toe werk die boek.

"Andersheid, buitestanderskap, is ’n tema in Wildvreemd. “Dit gaan oor doodgewone mense, maar êrens voel hulle hulle pas nie in nie. Dis nie ’n soekende identiteit nie, dis meer ’n viering van individualisme. Elkeen is ’n wildvreemdeling, maar in die buitestanderskap is hulle ook eenders in hul weerloosheid teenoor mekaar.

"Deur die verloop van die verhaal ontwikkel hulle deernis vir mekaar. Met die hoofkarakter, ’n stom byeboer, gebeur dit oor ’n tydperk van nege jaar, waarin sy vrede maak met haarself."

Oor haar hoofkarakter vertel Carina aan Elmari Rautenbach (Beeld, 7 November 2011): “Nege jaar gelede trek ’n vreemdeling van onsekere herkoms alleen in die Ruig in, ’n stuk oewerbos in die Waterberge van Limpopo. In die ­jare wat volg, bekwaam sy haar as uitsonderlike byeboer en veg vrou-alleen teen onwettige jagtery, soms op wraaklustige wyses. Almal vrees haar. Hulle glo die byt van ’n hiëna is die rede dat sy stom is.

“Vir my is die byeboer die verpersoonliking van die stemloses, die diere. Byeboerdery is een van die primitiefste boerderye op aarde. Dit pas by die ‘oergeit’, die sprokiesagtige of fantasmagoriese in Wildvreemd. Die koninginby is ook ’n metafoor vir die byeboer wat iets vreemd wonderliks in die geheim vorm. Soos ’n by is sy potensieel gevaarlik, selfs dodelik, maar ook heilsaam soos heuning.

“Die sikliese konsep van viriliteit ná die dood lê ook na aan die hart van hierdie verhaal. Die byeboer word uitgebeeld as ’n soort inisiant omdat sy die siklus van slagting tot genesing voltooi. Nadat sy uit die sogenaamde skyndood opgewek is, weet sy wat benede die onbewuste lê. Ek werk hier met die idee van die inisiant as bonatuurlike wese – ’n konsep wat sterk inspeel op onsterflikheid of ewige lewe, van skeppingskrag wat heers oor die dood.” Of soos sy in dié kort uittreksel “vertel”: “Vir hulle is ek die alleendier, die eenkant een, die sondebok. Die woordstom vrou wat slaap tussen donker skaduwees.”

Carina het nog nooit self gevoel sy’s ’n buitestander nie. “Dis vir my half snaaks dat dit die hooftema in die boek is.”

Oor die diere-en insekte-ryk wat so ‘n belangrike rol in Wildvreemd speel, vertel Carina aan Rautenbach dat sy van kleins af ’n gevoel vir bewaring gehad het. Sy het kleintyd gesê dat poppe dood is, "maar diere práát". “In my slaapkamer as kind was daar duifkuikens wat uit neste gewaai het, boskatjies wat deur miere opgevreet is, ’n duikerlam sonder ma. Op skool wou ek ’n ruk lank veearts word, maar toe kry ek 29% vir wiskunde en 92% vir stelwerk!

“Ek is nie gekant teen jag as sodanig nie. D Scott se artikel ‘Strikke en valle – die vloek van die natuurlewe’ wat in 1982 deur die destydse Fauna & Flora (Transvaalse Afdeling Natuurbewaring nr 39) gepubliseer is, was die prikkel vir die stryd teen onwettige jagmetodes in Wildvreemd.

“Strikke en slagysters is die wreedste denkbare wyse om ’n dier dood te maak. Onwettige jagters het geen genade vir lydende, verminkte diere nie. Die vernietiging van die natuur maak my woedend. Woede is soms suurstof vir die vuur wanneer ’n mens skep.

“Veral woede wat gebore is uit ’n liefde – in die geval van Wildvreemd was dit my liefde vir die wildernis. Ook my liefde vir vryheid en my woede teenoor diegene wat ons daarvan probeer ontneem.

“Die verhaal gaan dus nie net oor die bewaring van die natuur nie, maar oor die beskerming van lewe – ook die sielslewe van die mens. Dit is ’n verhaal van slagting in al sy vorme hierdie, van die doodgeswygde en vryheid. Veral vryheid.”

Die titel Wildvreemd kan ’n hele aantal betekenisse hê, onder ander die Waterberge se "wildernis" wat die agtergrond vir die verhaal is met sy "gramadoelas, en die ongerepte idilliese landelike ruimte". Dan kan dit ook dui op die "verwildering" van Byeboer en haar verbanning uit die gemeenskap. "Wildheid" kan ook dui op die tekens van onmenslikheid en barbaarsheid in die mense se omgang met mekaar. Maar dit kan ook dui op "wildvreemd" in sy gewone betekenis: elke karakter beskik oor ’n "vreemdsoortigheid of rariteit", wat beteken dat elkeen op ’n manier ’n "wildvreemdeling" raak.

Saam met die bekendstelling van die roman is ’n solo-uitstalling van kunswerke wat op die roman gegrond is, by die Lanzerac Hotel op Stellenbosch gehou. Hieroor vertel Carina aan Elmari Rautenbach: "Ek het altyd geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord én beeld wou wy; aan skryf én kuns. Dis soos ’n spiraal: Eers het ek Wildvreemd in my gedagtes sien afspeel, soos ’n fliek, toe het ek dit geskryf, en nou is ek terug by die sien: die visuele kuns."

Haar uitstalling by Lanzerac beeld die karakters en tonele in die boek visueel uit en só word die woorde ook beelde en kom ’n mens by die titel van die uitstalling uit: Wildvreemd: verbeelde woorde.

Op haar webwerf sê Carina die tekeninge is van karakters met wie sy saamgeleef het. “Ek het soveel jaar met die karakters in my gedagtes saamgeleef dat ek voel asof ek hul stemme en geite volkome ken,” verduidelik sy. “Jare gelede het ek selfs een aand gedroom hoe ek in ’n huis instap en daar is al my karakters almal saam in een vertrek, besig om met mekaar te kuier!

“Hulle het hulle nie juis aan my gesteur nie, asof ek ’n vreemdeling vir hulle was. Maar ja, ek weet hoe hulle lyk en klink en nou, vir die uitstalling by Lanzerac, deel ek hierdie prentjies in my kop met lesers in ’n reeks van 40 kunswerke.”

In Beeld (5 Desember 2011) skryf Saartjie Botha dat die verhaal van Wildvreemd heel eenvoudig voorkom: "Nege jaar tevore trek ’n vreemde vrou in die Ruig in. Die Ruig is ’n stuk ongerepte natuur in die Waterberge. Vreemd, want sy praat nie en skakel nie in nie, en vreemd vanweë haar eienaardige, maar aantreklike voorkoms en gewoontes. Sy leef na aan die aarde, boer met bye en voer haar stryd teen wildstropers alleen en ongesiens. Een maal per maand verkoop sy heuning en kerse op ’n boeremark. Haar enigste vertroueling is ’n ruimgeestige boer, Braam Botha, wat haar heuningoes aanry mark toe en haar korwe uitverhuur aan die vrugteboere in die omgewing.

"Die gemeenskap beskou haar as mal; ’n heks, ’n skarlakenvrou van die nag wat seuntjies vergiftig. Sy is die hoofverdagte as ’n verwoestende veldbrand groot skade aanrig en mense daarin omkom. Ná die brand onttrek sy haar selfs nog meer, omring met haar bye en geheime. En gerugte wat nie gaan lê nie.

"Wildvreemd is in vyf hoofstukke verdeel: ‘1. Daar was ’n brand’, ‘2. Vier maande ná die vuur’, ‘3. Heuning na die reën’, ‘4. Ou bloed, jong bloed’ en ‘5. Vlees teen vlees’. Carina stel ’n agttal vertellers aan die woord wat vernuftig afgewissel word om perspektief-skuiwe te bewerkstellig. En hoewel die byeboer of brandgegewe sentraal in al die vertellers se betrokkenheid staan, het elkeen ook ’n eie persoonlike verhaal te vertel."

Botha beskryf Wildvreemd as vol kinkels. “Stander is aanvanklik suinig met inligting wat die verhaal in sy volle omvang laat ontvou. ’n Sterk spanningslyn word gehandhaaf en die slim afwisseling van vertellers laat die leser in afwagting uitsien na ’n volgende spreekbeurt. Dit is uiteraard onmoontlik om aan al die vertellers ewe veel gewig te verleen en sommige is aan die skrapse kant. Veral Wouter, Zach en Jarus is veel minder aan die woord as die ander vertellers.

"’n Sterker teenwoordigheid van laasgenoemde drie karakters en ’n paar snitte in Ingrid en Ebro se soms studentikose relase sou ’n digter gekonstrueerde verhaal daar kon gestel het en die reikwydte van die beleweniswêreld verbreed het.  Dit is egter veral Meraai as verteller wat my beïndruk het. Haar taal is ’n heerlike hutspot van Afrikaanse dialekte met ’n skeutjie ou Nederlands tussenin.

"Wildvreemd is ’n bevestiging van Stander se talent, deursettingsvermoë en gedrewenheid as skrywer. Daar is ’n paar steurnisse wat deurgeglip het, soos die slot wat gedwonge voel, met sommige karakters wat te vroeg in die verloop ’n soort lotsbepaling aanvaar. Die beskrywings van sensualiteit is soms te blatant en opdringerig en die lesers word ook nie subtiel genoeg gelei in die vorming van perspektief op die vertellers nie en het beslis nie ewe veel simpatie met en begrip vir elkeen nie. Dit is egter ’n moedige poging en nie sonder bekoring nie. Ek sien met verwagting uit na Carina se volgende roman."

Carina het haar ook in Wildvreemd bewys as ’n vaardige skrywer wat net so tuis is in die oordadigheid van prosa as in die gestrooptheid van poësie. Veral haar natuurbeskrywings van ’n grootliks ongedokumenteerde gedeelte van Suid-Afrika is uitstekend.

Nini Bennett het in haar resensie geskryf: "Stander se buitengewone kennis van die natuur en sensitiewe beelding maak van Wildvreemd ’n roman wat die leser meevoer. Die gedagtewêreld van die karakters oorheers die teks, en die atmosfeer is dromerig en impressionisties: 'Toe sy die flesse aangee, het ek die vars bloed onder haar vingernaels gesien, haar handpalms rooi gevlek, soos herfsblare. Aaneen het sy gehuil, sag soos ’n reëntjie. Maar ek het nie gevra nie; sy sou nie kon sê nie.'

"Op haar beste grens Stander se waarneming aan die sublieme, terwyl die intriges en legkaart van perspektiewe die leser sal boei. Wildvreemd is sterk aan te beveel. Stander skryf met hoop – hoop téén wreedheid en ongeregtigheid in, en met die gerusstelling dat liefde, versoening en geregtigheid seëvier."

Carina was van kleins af die kind vir wie almal hul stories en geheime kom vertel het, vertel sy aan Hanlie Retief in Rapport. “Ek het partykeer een storie uit 17 windrigtings gehoor en vroeg al begryp hoe mense mekaar verkeerd verstaan.”

Ná haar twee digbundels was dit vir haar lekker om “oorvloediger” te kon skryf, sê sy aan Hanlie Retief. "My inspirasie kom van die prose poets, soos Anne Michaels (Fugitive Pieces), Michael Ondaatje (The English Patient), Clarissa Pinkola Estés (Women Who Run with the Wolves).

"En Breyten Breytenbach betower my met sy vrye vlug, spontane wording. Hy is ’n regte skilderdigter – hy skryf met sy oë. Pablo Neruda lees ek vir sy metaforiese taal, Sheila Cussons vir haar verstommende helder spiritualiteit en Rilke omdat hy die meester van simboliek is.

“Ek kry ook ’n hengse kiek uit Bill Bryson (Notes on a Small Island) en Bill Watterson se Calvin and Hobbes: Scientific progress goes 'bonk'. Nie-fiksie wat vir my kragtige rigtingwysers is, is What is so amazing about grace (Philip Yancey) en die What to Expect-triologie. (By elkeen van my kinders se koms lees ek al 3 000 bladsye weer van voor af, van dag een van die swangerskap tot aan die einde van die peuterjare.)

“Afrikaanse romanskrywers wat my hart warm laat klop, is Chris Barnard, Etienne van Heerden (Toorberg) en Elsa Joubert (Die swerfjare van Poppie Nongena).

“Ek het ’n ewige plekkie vir Hemingway se Old Man and the Sea. En die Bybelboek Jesaja, ’n pragtige stuk poësie, maar ook prosa. Dit laat mens verstaan waarom die Hebreeuse werkwoord vir ‘dig’ en ‘profeteer’ dieselfde is: ‘naba’.

“So, ek wil nie afskeid neem van poësie nie, maar ek wil dit net in ’n meer gedrewe vorm doen. Dat ek nie so veilig hoef te wees van die woorde nie …"

Carina se raad aan voornemende digters is die volgende (op LitNet):

  • As jy net lank genoeg kan lewe om een gedig te skryf, waaroor sal dit gaan? Skryf vandag nog daardie gedig. Só keer jy dat die groot vonk binne jou geblus word deur ’n uitstellery en, uiteindelik, ’n afstellery.
  • Maak dadelik ’n nota van daardie sterk sin of beeld wat by jou opkom wanneer jy by die vliegtuig uitkyk, ’n openbarende droom of brief ontvang, of ’n blaargeraamte sien as die son by jou kamer inskyn. Dalk omskep jy dit eers jare later in ’n gedig, maar as jy die oomblik van inspirasie nie neerpen nie, is dit water deur jou vingers. Vir altyd verlore.
  • Poësie is klankkuns: lees jou vers hardop. Hóór of die ritme en klank aansluit by die inhoud van jou gedig.
  • Publiseer ’n gedig slegs as jy bereid is om dit in lewende lywe voor ’n gehoor te lees; as jy jouself ten nouste aan daardie vers kan koppel.
  • Moenie jou onklaar gedigte sommerso verloën nie. Op my rekenaar is ’n lêer met die heerlike dubbelsinnige titel, “Gedigte om te verwerk”. Dit is 117 bladsye lank.
  • Skryf binne en buite seisoen. Dus: of jy nou lus is of nie. Op 11 het ek vir myself die reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf – ’n ritueel wat ek volgehou het totdat ek 17 jaar oud was. Dit het my selfdissipline geleer.
  • Wees groeigereed, nie kleinserig nie.
  • Omring jouself met reuse: op hoërskool het ek vir drie jaar die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom bygewoon. Die eerste twee jaar was ek die enigste skoolkind – totaal verskrik én verwonderd. Om regte skrywers soos Antjie Krog in aksie te sien, het my laat besef hoe ontsettend baie ek moet leer. Dié besef het my uit die fase van tienerpoësie geklap – iets wat my andersins dalk dekades sou geneem het. Met die MA in kreatiewe skryfwerk by Kaapstad het Joan Hambidge my gewys op hebbelikhede waarvoor ek in my pasoppens moet wees en natuurlike sterk punte waarmee ek kan woeker.
  • As jy regtig wil groei, bestaan daar nie iets soos om vir ontspanning te lees nie. Selfs al lees jy ook ’n slapstick komedie. Of jy nou blaai deur ’n mediese joernaal, ’n vakkundige natuurboek, ’n atlas, resepteboek, spreekwoordeboek of kinderboek, koerant en veral ’n digbundel: lees altyd met ’n pen in die hand, besig om die tricks of the trade te ontsyfer.
  • Gaan lééf. Gooi jou deure oop. Snorkel kaal in die see. Besoek jou grootwordplek. Bid op ’n berg. Luister stip hoe mense gesels, na hul taal en lyftaal, veral na dit wat ongesê bly. Keer dan terug na jou binnekamer. En skryf met al duisend jou sintuie. Jou eie storie in jou eie stem.

By 2011 se Woordfees het Carina ’n uitstalling van haar kunswerke gehou. Daar was ses inksketse op die uitstalling: die oorspronklike weergawes uit haar digbundel Woud van nege en negentig vlerke, asook ’n sewende een – spesiaal vir die Slenterfees/Woordfees, getiteld Elwe en Selwe. Sy het ook twee ronde olieverfskilderye op bord uitgestal. Die hoofkarakter in haar eerste roman, Wildvreemd, asook ’n roerende Return to Eden, waar ’n jakkals aan ’n vrou se gesig ruik. Dis vars en diep en vol hoop, soos haar aanhaling uit Jesaja 11:8.

Die laaste twee skilderye was Tuinier en ’n amper lewensgrootte-uitbeelding van Desmond Tutu getiteld Hemel en Aarde.

Carina is in 2011 genomineer vir ’n ATKV-Mediaveertjie, kategorie Beste Leefstyl-artikel.

Oor die drie verskillende genres waarin sy werk – romanskryf, poësie en skilderkuns – laat sy haar as volg uit (http://carinastander.wix.com/ontmoetcarina#!visuele-kunstenaar): “Gedigte is soms vir my ’n soort kitsverligting, soos om ‘help!’ te skree wanneer ’n klip op jou voet val of ‘kyk hier!’ as jy iets besonders beleef. Digters is dikwels gerig op die gevoelens en waarnemings van die ‘self’. Hulle skryf na binne. Ek dink romanskrywers is in die algemeen minder doenig met die ‘self’ omdat hulle ander mense se stories skryf. Hulle skryf meer na buite. Ek het die laaste paar jaar die behoefte om eerder my gedagtes in stories uit te stort. Liriese stories met ’n digterlike stembuiging. My gedigte, aan die ander kant, het steeds ’n verhalende of narratiewe element.

“In ’n poging om die onverklaarbare te verklaar wou ek die werklikheid herskep deur middel van ’n eie mitologie. Deur die gebruik van metaforiese beelding – in visuele kuns, digkuns of prosa – soek ek na ’n moontlike wêreld, ’n nuwe beelding. ’n Metafoor bring kategorieë saam wat voorheen vreemd vir mekaar was sodat die huidige kategorisering verskuif kan word deur die proses van assimilering – een voorwerp neem ’n ander voorwerp se eienskappe oor, al lyk dit asof hulle nie saamhoort nie. In een skets verander ’n vrou se hare in ’n vlindervlerk. ’n Uil omvorm tot ’n tak. ’n Jakkals ruik aan ’n vrou se gesig. Na wie aard ons? Wat is die verskuilde aard waarmee ons gebore word?

Mitologiese en metaforiese beelding is draers van hoop omdat dit moontlikhede in die werklikheid ondersoek wat voorheen onmoontlik gelyk het. Hierom skep ek. Hierom sal ek aanhou skep.”

In ’n rubriek in Rapport skryf Carina onder die titel “Ek wil ook graag asemskryf, my kind ...”:

In die Bosvelddorpie van my kinderjare was daar net een verkeerslig – ’n verskoning vir die bestaansreg van die laerskool se padpatrollie.

Ek was nie in die padpatrollie nie. Ek was ook nie ’n biblioteekprefek nie. Ek is nie eens gekies om pouses toiletdiens te doen nie. Ek dink ek was die enigste standerd vyf sonder ’n balkie.

Want ek had “’n houding”.

“Wat bedoel hulle met ‘houding’, Ma?”

Ma Truiki, ’n opvoeder in murg en been (sy het 40 jaar lank Afrikaans en Duits vir matrikulante gegee), trek die HAT nader.

Sy lees en sê gewoon: “Hulle praat twak, my kind.”

Die dag toe ek kom vertel het van die nuwe woord wat ons in Bybelonderrig geleer het, het Ma ook die HAT so nadergehark.

“Meneer het vandag vir ons gelees van Ragab die hoer. Ek het gevra wat ’n hoer is, toe maak hy of hy my nie hoor nie.

“Toe steek ek maar weer my hand op.”

“O ja?”

“Hy sê ’n hoer is ’n slegte vrou. Ek het gevra of dit iemand is wat haar kinders mishandel, toe sê hy ja, net so.”

Sit Ma weer HAT in die hand. “Houding” is die verkeerde woord, besluit sy. “Nuuskierige bliksempie” is nader aan die waarheid.

Beland ek met my houding en al by die enigste sielkundige op die dorp.

Ek haat skool, sê ek. Mens moet ’n lelike, dik rok en ’n poniestert dra, balle vang en …

Daar was ’n ding waarvoor ek nie naam gehad het nie. Die ding dat Die Sisteem my wurg.

“Nou wat wil jy doen?” vra die sielkundige.

“Ek wil skryf. Met los hare.”

Al was ek net 12 jaar oud, was ek in my eie oë reeds jare al ’n skrywer.

Op agt het die eerste versreël my besoek en op elf het ek vir myself die reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf – ’n ritueel wat ek volgehou het vir die res van my skooljare.

Die sielkundige het my gediagnoseer met vervroegde adolessensie.

“Maar wanneer jy 15 is en jou maatjies begin wonder oor hul plek in die lewe, gaan jy so mak soos ’n lammetjie wees.”

Sy was reg. Op hoërskool het ek ’n kalm, kreatiewe ruimte in Die Sisteem gevind.

In my matriekjaar daag Ma soos ’n stout kind by die huis op: Sy het my edlapkaart by die skool gesteel. Pure nuuskierigheid!

Ons lees my gr 1-juffrou se verslag: “Carina lewe in ’n wêreld van fantasie, ruil b en d om, maar maak mooi sinne.”

Ek was glo so stilverskrik in gr 2 dat ek eers in die derde kwartaal my hand in die klas opgesteek het. Dit was kort voor huistoegaantyd, toe Juffrou ’n prentjie ophou en vra wie ’n storie daarvan wil maak.

Ek het my hand opgesteek, die skaam handjie waarmee ek nooit iets wou vra nie, die hand met die vratjies wat soos aartappelmoere uitspruit, was so hoog in die lug dat die hele klas kon sien toe ek vra: “’Seblief, ’seblief, mag ek …?”

Laas week kry ek Vonk@verse in die pos: ’n nuwe digbundel vir laerskole, saamgestel deur Jeanette Ferreira. Versies wat ek as negejarige kind geskryf het, is hierin opgeneem.

Ek wys dit vir my drie-en-’n-halfjarige seuntjie, Aden. En hy oorrompel my met ’n sin so mooi, so vreemdbekend, dat dit my stil laat: “Mamma, ek skryf ’n storie van toe God lief was vir alles op die aarde. Ek skryf dit met my asem.”

Ek wil ook asemskryf, my kind.

In 2012, met Wêreldboekedag, vertel Carina aan LitNet watter karakter in ’n boek sy sou wou wees: "Ek sal daardie klein avonturier in Selma Lagerlöf se Nils Holgerssons underbara resa genom Sverige (1906), oftewel Nils Holgersson se wonderbaarlike reis (1950),wil wees – die getoorde stouterd wat op die rug van ’n wit huisgans klim en saam met ’n swerm eksentrieke wildeganse na Lapland in Swede migreer. Saam sal ons ’n versonke stad en ’n towertuin ontdek, die weerheks op haar krom neus laat kyk, bosbrande en sneeustorms oorleef, hartseer raak oor die drooglegging van ’n meer, varkworsies uit ’n spens gaan gaps, arende en wildsbokke bevry, bere bevriend en die snawels wyd rek teen wreedheid. Sodra Smirre die vraatsugtige vos ons kom hinder, sal ek die fluitjie aan die punt van my mus sommer so tjierrr in sy oor blaas – oor en uit!

"Wat my meteens laat wonder oor daardie fluitjie in my kar en die fluitjies in my handsak, my bergklimsak, langs my bed ... Glo ek warempel sedert my kennismaking met Nils ’n kwarteeu gelede dat die skril gegil van ’n fluitjie elke rondloperbrak en rower sal afskrik? Ja, hand op die hart moet ek dit bieg. En dis nie al nie ... Raai waarom maak hamsters in hokkies my woedend of dompel dieretuine my in die diepste put van depressie? Nils se skuld, alles Nils Holgersson se skuld! Ook die ding dat ek altoos ’n venstersitplek in die vliegtuig bespreek en dan afkyk en kyk oor landskappe van droom.

"Selma Lagerlöf was die eerste vroulike wenner van die Nobelprys vir letterkunde. Jare later, tydens die Nobelpryslesing van 1980, het Czeslaw Milosz gesê Nils Holgersson se wonderbaarlike reis plaas die held in ’n dubbele rol: hy is die een wat oor die aarde vlieg en van bo af daarna kyk, maar dit ook in besonderhede sien. Hierdie dubbele visie kan ’n metafoor wees vir die digter se roeping."

Waaraan skryf sy nou?

"In 2001, terwyl ek die Skotse Hooglande binnegery het waar ek vir ’n halwe jaar sou woon, het ’n verhaal uit die niet op my afgepyl. Ek het net daar in ’n sneeulandskap in die middel van nêrens stilgehou, my skryfgoed uitgehaal en begin skryf aan ’n allegorie, ’n uitgebreide metafoor waarin reismistiek ’n rol speel. Intussen het ek doenig geraak met ander projekte, maar voortdurend navorsing gedoen op byvoorbeeld walvisjag en die giet van bronsklokke; ek het verskeie bergreekse besoek; eiesoortige karakters het hulle kom aanmeld. ’n Fliekmaker het die verhaalbeplanning gelees en voorgestel dat ons dit saam ontwikkel met die oog op ’n boek én draaiboek." (Beeld, 24 Maart 2014)

In 2012 het Riet de Jong-Goossens, die welbekende Nederlandse vertaler, Wildvreemd in Nederlands vertaal. Hieroor het Carina aan Willem de Vries (Die Burger, 6 November 2012), gesê dat dit vir haar heerlik was om saam met Riet de Jong-Goossens te werk: "Riet is ­uiters bekwaam en toeganklik. Sy het byvoorbeeld vrae ­gehad oor die tydsverloop, die ‘jongerentaal en volkse taal’. Die wisselwerking tussen ons was een groot plesier.”

De Jong-Goossens se eerste woorde aan Carina was: “Het was een heerlijke opdracht en nu, na wel tien keer lezen, geniet ik nog steeds van de tekst.”

Carina se reaksie hierop was: “Tien keer! Iets van Riet se deeglikheid én positiwiteit skemer beslis deur in die vertaling, want dit vloei heerlik. Ja, daar was woordspelings en boeregrappe wat nie maklik vertaalbaar is nie. Maar die hart van die boek, die binneklop het behoue gebly en daarvoor is ek diep dankbaar.”

Carina het gemeen dat daar “’n sekere vreemdheid en herkenning in Wildvreemd is wat Nederlandse lesers dalk aantreklik mag vind. Vreemdheid in die sin van andersheid, ’n soort Afrika-eksotika wat ons as Suid-Afrikaners miskien as heel ­gewoon ervaar.”

Omdat die boek nou nie net in Afrikaans ’n lewe het nie, sien sy sekere aspekte daarvan in ’n ander lig. “Dit het telkens vir my gevoel asof ek my verhaal deur die ander taal herontdek. Ek had veel plesier aan uitdrukkings soos 'zit daar vastgeroest', 'zaagsel in zijn kop' en 'tegendraads leeft'. Beskrywende woorde soos 'takvork' (mik van ’n boom), 'stokstaartjes' (meerkat), 'stekelvarken' (ystervark), 'feestbeest' (partytjiedier) en 'snotaap' (bog­snuiter) vind ek ook alte pragtig en verruimend.”

Wildvreemd is vir 2014 en 2015 voorgeskryf in ­Onafhanklike Eksamenraad-skole wat Afrikaans as ­huistaal aanbied.

Carina was een van die persone wat in 2012 ’n Goue Pen-prys van die Cordis-trust ontvang het vir haar besondere bydrae tot die bevordering van Afrikaans as gepubliseerde digter, romanskrywer en visuele kunstenaar. Die prys bestaan uit ’n oorkonde, R5 000 en ’n gratis publikasievoordeel by Cordis-trust-publikasies. Die fonds is in 2000 deur Fanie Marais gestig en gefinansier.

Hieroor vertel Carina aan De Vries: “Ter ­aansluiting by die mentorskap­filosofie van die trust transkribeer ek nou die stories wat my vyfjarige ­seuntjie, Aden, oor sy denkbeeldige land, Wolk­land, vertel. Ons wil dit oor ’n jaar of wat saam met sy tekeninge uitgee – ’n kinderboekie deur ’n kind. Tussendeur doen ek heelwat reis­artikels en rubrieke. Die ­roman waaraan ek tans skryf, is ’n allegorie of uit­gebreide metafoor waarin die wonderbaarlike en berglandskappe ’n groot rol speel.”

In 2014 het Laetitia Pople in Die Burger van 19 Maart berig dat Wildvreemd verfilm gaan word. ’n Ou vriend van Carina, Matthys Boshoff van Air Films, het haar genader om die boek te verfilm. Die vervaardiger is Piet de Jager, wat rolprente soos Verraaiers en Roepman gemaak het. Boshoff en Helena Kriel is verantwoordelik vir die draaiboek en die aanvanklike buitelyn van die draaiboek het Carina beïndruk. Dit sal met Engelse onderskrifte uitgereik word.

Aden, Carina se oudste seun, se boek Wolkland is in 2013 uitgegee en daarmee is Carina se wens om sy stories uit te gee, verwesenlik. Hy het in 2013 ses geword, het sy aan Willem de Vries in Die Burger van 14 Desember 2013 vertel. Aden se eie tekeninge en kleibeelde is gebruik vir die illustrasies van die boek.

Die stories en kuns in Wolkland dateer uit Aden se eerste vyf jaar. En sy beskou die boek as “die op­tekening van ’n tydgleuf, ’n speelse kartering van die innerlike landskap” van Aden.

“Ek glo vas dat talle voorskolers die lewe as vreemd wonderlik ervaar, maar deur woord en beeld skuif Aden vir ons ’n venster oop op die verbeeldingswêreld van die kleiner kind. My hoop is dat grootmense, met die lees van Wolkland, sal lus raak om hul skoene uit te skop, plat op die grond tussen die kleingoed te gaan sit en stip, stip te luister waar die dodo’s en dinosourusse deesdae ronddwaal.”

Die gesin woon in die ruie wêreld van ­Tsitsikamma. Nie net hierdie landskap nie, maar ook feite is saamgesit om die storie uit te beeld. Carina het die nawoord by die storie geskryf en daar het sy geskryf dat "feite die moontlikhede vir fiksie vertiendubbel” het. “Wetenskap het Wolk­land op die kaart help sit.”

Sy het aan Willem de Vries vertel: "Soos die meeste kleuters is Aden ­geweldig nuuskierig.” Hulle het dié leergierigheid baie sterk aangemoedig deur hom konstant van interessante feite te voorsien. “My man, Gerrit van Niekerk, ’n rekenaar­programmeerder, het dit veral geniet om hoekom-vrae interessant te be­antwoord. Hy en sy seun het lang ure gesels oor tektoniese plate, die werking van wolke en sterrestelsels.

“As ek die dag vir Aden in ’n ­museum ’n afbeelding van ’n selakant gewys het, duik daar kort daarna ’n hele skool selakante agter ons eie branders op! Of as ek vir hom vertel van kamele in die woestyn, hoor ek binnekort hoe sy dinosourusse ’n draai in ene ‘Diep-Egipte’ en ‘Behoorlike-Egipte’ maak. Kyk ons ’n BBC­ Earth-dokumentêr oor die Kongo, hoor ons hoe sy diere ook gloeiende ­alge in ’n Afrika-woud vreet. Die ­gevolg is dat die stories in Wolk­land dikwels feitelik korrek en oortuigend begin: 'Die pelikane het nie hier by die see gelewe in die tyd van die ­mammoete nie ...' Maar as jy jou oge uitvee, kan hulle 'ses en honderd keer oud word, daardie pelikane!'

"Dinosourusse en ander oerdiere was baie lank sy hooffassinasie," sê Carina, "daarna was dit werklike diere met ­mitologiese eienskappe, soos die ­seedrakies van Australië of die deursigtige glaspaddas van die Amasone – wat albei in Wolkland verskyn. Die heel vroegste deel van die boek, waar hy vertel van sy verbeeldingsvrou, Nana, en hul kinders wat woon ‘waar alles wit is’, is my gunsteling-storie in die boek."

Die mooiste woorde in die boek is vir haar die motto voor in die boek, "waarin hy vertel hoe hy ’n storie wil skryf met sy asem.”

Oor die teks het sy vertel dat sy saam met haar uitgewersredakteur, Francois Smith, gewerk het om te besluit hoe dit daar moet uitsien: "Deur die jare het ek dikwels Aden se sêgoedjies teen die Facebook-muur geplak – ’n vinnige manier van opteken – of aan familie gevonkpos. Ek het ook gereeld sy stories met die diktafoon opgeneem, sommer terwyl hy sit en speel, of oor die telefoon met sy ­oupas en oumas kuier. Vir Wolkland het ek ongeveer 15 uur van dié opnames woord vir woord getranskribeer. Ek het slegs vertellings uit Aden se eerste vyf lewensjare gebruik. Om spesifiek te wees: Die vroegste sin in die boek is op 27 maande gemaak en die laaste verhaal op 5 jaar en 11 maande.”

Sy was bevrees dat sy dalk nie objektief genoeg sou wees nie en dus het sy Smith se hulp ingeroep. "Ek het altesame 16 bladsye van Aden se vertellings aan Francois gestuur, aangebied as los aanhalings en as afsonderlike verhale, elk met ’n datum en ouderdom van toe Aden dit vertel het. Francois se vraag aan my was: Hoe kan ons ’n boek hiervan maak? Dis toe dat hy met die blink voorstel gekom het om die volgorde van die vertellings só te rangskik dat dit ’n soort sikliese skeppingsverhaal vorm, bewoon deur die kleuterkind se vreemde skepsels.”

Publikasies:

Publikasie

die vloedbos sal weer vlieg

Publikasiedatum

2006

ISBN

0624044807 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woud van nege en negentig vlerke

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047971 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wildvreemd

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780624053392 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands deur Riet de Jong-Goossens

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Carina Stander beskikbaar op die internet

Artikels deur Carina Stander beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Carina Stander (1976–) appeared first on LitNet.


Minnie Postma (1908–1989)

$
0
0
minnie250

Gebore en getoë

Minnie (Magdalena Jacomina) Postma is op 18 Augustus 1908 op Ficksburg in die Oos-Vrystaat gebore as ’n nooi Wille. Haar ouers was Jacobus en Martha Wille.

In ’n biografiese skets wat sy vir NALN geskryf het, het sy vertel: “Wat ’n groot indruk op my gemaak het, was my pa se trek na die destydse Brits-Betsjoeanaland toe ek sowat drie jaar oud was en die terugkeer Ficksburg toe sowat sewe jaar later.”

Oor haar skoolonderrig het Minnie Postma aan Kittie Vermaak en Elma Roux van Die Vaderland (7 Januarie 1982) vertel: “My eerste verwarring was dat Pa en Ma my indertyd soort van skoolgereed wou maak en my vooraf ’n bietjie onderrig gegee het.

“My name is Minnie Wille en my pa het die M en die W met skerp punte geskryf terwyl my ma dit met rondings geskryf het. Dit kon ek glad nie verstaan nie.

“My ma het vir my tafels geleer en wanneer ek die maklike syfers moes vermenigvuldig, het dit goed gegaan. Die moeilikes was die vyfmaaltafel: As ek dit nie kon regkry nie, het my ma gesê ek is koppig en my in ’n kamer toegemaak.

“Later jare en veral vandag sien ek hoe lekker is dit om te leer as jy reg leer. Die Hollandse versies wat ek moes leer het my verstand ook soms te bowe gegaan. Een het so gelui: ‘Daar buiten in de biesjes / Daar lag een hondje dood …’ Die lag beteken lê en ek kon glad nie verstaan waarom die ou dooie hondjie lag nie.

“Die genietinge van my eerste skooljare was die kere dat ons met ’n donkiekar huis toe gery het. My ouers het tussen die huidige Mafikeng en Vryburg gewoon en ek het by ’n vrou naby die skool geloseer. Maandagmôre het my pa my met die perdekar skool toe geneem en Vrydagmiddae moes ek saam met die bywoner, hy was die putgrawer, en sy kinders met die donkiekar huis toe gaan.

“Partykeer het die donkies steeks geword en dan het ons afgespring en eers bessies gepluk en gom van die bome afgehaal. As die donkies intussen weer begin draf het, moes ons ook hardloop en agterop die donkiekar spring.

“My herinneringe aan my eerste onderwys is glad nie aangenaam nie. In die onderrig wat my ouers my gegee het, het ek gewoond geraak daaraan dat hulle direk mét my gepraat het. Toe ek in die klas sit en die onderwyser praat met die hele klas, kon ek niks begryp nie. Die gevolg was dat hy my, die sagte ou dogtertjie van ses jaar, blou om die arms geslaan het. Ek het ook daaroor in my Meintjie-boeke geskryf.”

Haar ouers het haar tot ongeveer standerd een self geleer terwyl hulle in Betsjoeanaland was. Ná hulle terugkeer is sy na plaasskole tot en met standerd vyf. Tot op daardie stadium het sy net in Engels en Nederlands onderrig ontvang. Vanaf standerd vyf is daar ook in Afrikaans klas gegee.

Toe sy Ficksburg toe is vir haar hoërskoolopleiding, het sy by haar oom Fred Wille geloseer. Daar is ’n paar tydelike klaskamers in die ou NG Kerk ingerig waar haar hoërskoolloopbaan begin het. Die hoof van hierdie skool was SH Pellissier van volkspelefaam. Sy het hier gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná skool is Minnie na Bloemfontein waar sy haar as onderwyseres aan die Normaalkollege bekwaam  het. Dit was hier waar sy haar toekomstige man, Philippus Postma, ontmoet het. Hy was ook ’n onderwyser en die derde seun van ds. Willem Postma, wat later as Dr O'Kulis bekendheid verwerf het met sy Sewe duiwels en ook voorvegter vir Afrikaans was tydens die Tweede Taalbeweging in die Vrystaat.

Nadat sy haar onderwysopleiding voltooi het, het sy onderwys gegee op plaasskole in Rosendal en Ladybrand se distrikte. In 1933 het sy ’n pos op Clocolan gekry. Dit was hier wat sy ervaring opgedoen het met skoolkore wat haar baie vreugde verskaf het en wat sy ook met vrug in haar latere Meintjie-reeks kon gebruik het.

Philippus, of Flippus, soos hy onder die familie bekend gestaan het, was die vyfde van tien weeskinders, waaronder die beeldhouer Laurika Postma. Voordat hy met Minnie kon trou, wou hy die jonger kinders eers op die been help, en was hy bereid om al die jare vir Minnie te wag.

Minnie het aan Marina le Roux vertel: “Eendag uit die bloute, bel Flippus. Die volgende naweek gaan hy Bloemfontein toe, ek moet ’n geleentheid soek en kom – dis dringend! Toe ek in Bloemfontein aanland, stel Flippus onomwonde sy saak: ‘Minnie, ons, of liewer ek, trou Desembermaand (1933). As jy wil saamtrou, moet jy sorg dat jy dan reg is.’”

So ná ’n periode van agt jaar is Minnie en Flippus op 19 Desember 1933 getroud. Uit die huwelik is ses kinders gebore: vyf dogters – Wille Martin (ook ’n skrywer), Philmi (wat jonk oorlede is), Kumi Postma, Werda Visagie en Yda Krijgsman – en een seun – Okulis Postma.

Philippus was onderwyser aan verskeie nywerheidskole op Bloemfontein, Bethulie en Heidelberg, in die destydse Transvaal. Hy was baie jare lank verbonde aan die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap en was sodoende onderhewig aan verplasing met bevordering, met die gevolg dat die gesin heel dikwels moes trek. Ná hulle huwelik is hulle na Queenstown, Dewetsdorp in die Vrystaat en Durbanville in die Kaap voordat hulle weer op Heidelberg beland het.

Philippus is op 28 Junie 1962 op 57-jarige ouderdom op Heidelberg oorlede en hy het haar op 54 agtergelaat sonder ’n pensioen of ’n huis. Sy moes weer terug na die onderwys om ’n inkomste vir haar en die kinders te verseker – eers aan JW Luckhoffskool waar haar man ook onderwys gegee het, totdat die jongste twee klaar was met skool en op universiteit was.

Nadat Flippus oorlede is, het sy nie meer geskryf nie, hoewel van haar boeke wat sy reeds geskryf het ná die tyd gepubliseer is.

In 1964 is sy en Kumi na Oos-Londen waar sy en Flippus enkele jare vroeër ’n aftreehuis gekoop het. Hierdie huis was die “Pienk Huis” van die Vrou-Alleen-rubriek in die tydskrif Rooi Rose, ’n reeks sketse waarin sy haar lewe ná haar man se dood op ’n geestige wyse uitgebeeld het.

In Oos-Londen het sy Afrikaans vir volwassenes aan die Tegniese Kollege gegee, asook tuis vir Engelssprekende kinders – later voltyds in De Waalstraat waar sy ook kunsonderwyseres was tot sy sestig geword het.

In Oktober 1969 het sy terug na Heidelberg toe getrek. Sy noem haar plekkie daar “My skermpie in die wingerd, my slaapplekkie in die komkommertuin” (na Jesaja 1). Daar het sy tot 1983 gewoon toe sy na ’n tehuis vir bejaardes, Nebohof, in Pretoria is. Sy het haar kamer “Balke toe” genoem, as gevolg van al haar besittings, wat sy letterlik tot bo by die plafon moes opstapel omdat daar nie genoeg spasie was nie.

Minnie Postma was nog altyd baie lief vir weefwerk en nadat sy die onderwys vaarwel toegeroep het, het sy haar meer toegelê op weef – in die groot leë huis en met die bokhaar wat sy vanaf die Transkei gekry het. Hierdie stokperdjie het haar baie plesier verskaf.

Minnie het van kindsbeen af in kontak gekom met die mense van Lesotho en het hulle goed leer ken en leer liefkry, vertel Marina le Roux (“Ons maak die kleipot oop”). “Hulle was dan tog die mense van haar liewe Seliba en Spaas, die bure van oor die Caledon, die mense van die Maluti. Die taal het sy soos haar moedertaal leer praat en die folklore van Tselane en Mmadiepetsane het saam met Rooikappie en Klein Duimpie ’n onuitwisbare stempel op haar kindwees afgedruk. (…) Hierdie opregte aanvoeling en respek vir die klankryke, ritmiese Sotho-taal sou jare later neerslag vind in haar skryfkuns. By monde van een van haar karakters, Poppie, beloof Minnie dan ook vroeg in haar lewe vir Seliba: ‘Weet jy, Aia, ek wil eendag al hierdie stories neerskryf en dan wil ek daarvan ’n boek maak.’”

Tot op daardie stadium in Minnie Postma se lewe het sy net tyd gehad om haar man en kinders te versorg en dit was eers toe sy ongeveer veertig jaar oud was dat sy begin het om te skryf.

 Sy het ’n troosprys in ’n slagspreukwedstryd vir hemde gewen en later twee spesiale pryse in ’n opstelwedstryd. Die tydskrif Fleur het haar eerste kortverhaal teruggestuur as nie geskik vir publikasie nie, maar daarna is haar manuskripte deur etlike tydskrifte en die SAUK aangeneem.

Haar eerste kortverhaal oor ’n Sotho-dogtertjie, Polani, is in die laat 1940’s deur Die Huisvrou gepubliseer. Marina le Roux vertel dat Audrey Blignault, wat op daardie stadium redakteur van Die Huisvrou was, en haar broer Ken Swart totaal uitgeboul was oor hierdie nuwe skrywer. Ken het nog stories gesoek vir sy radioprogram vir die jeug en so het Minnie Postma se “tyd van litsomo maak in alle erns begin”, want ook Alba Bouwer het Minnie se stories oor Kewaantjie en Kewyntjie vir die kleinspan uitgesaai.

Daar het ’n hegte vriendskap tussen Minnie Postma, Audrey Blignault en Alba Bouwer ontstaan. En terwyl Minnie
in die hospitaal was met Kumi se geboorte, het sy vir Audrey Blignault begin briewe skryf oor die vrou wat langs  haar in die bed gelê het en sulke snaakse goed gesê het: “Jy weet, Audrey, toe die verpleegster haar babaseuntjie vir die eerste keer vir haar gee, pluk sy sonder seremonie die doek vinnig af en bekyk hom goed. Toe vou sy die doek selfvoldaan toe en sê so spoggerig na my kant toe: ‘Nee wat, hy het sy swepie! Jy’s pure Bock, my rammetjie!’”

Hierdie briewe het soveel genot aan Audrey verskaf dat sy dit met Alba Bouwer, wat toe by die destydse Sarie Marais gewerk het, moes deel. Die redakteur van Sarie, Fred le Roux, was totaal “verbysterend”, soos Lettie Bock sou gesê het. En dit was hoe dit gekom het dat al die lesers van Sarie in 1951 vir die “uitbundige Lettie Bock, haar man, die liewe geduldige Gogga, hulle bulkalf, Jaap, met Lettie se kinderlike, en groot hart, haar ‘stieftand’', haar ‘bloeddrukte’, en haar ‘traansuster’” leer ken het.

Selfs nadat sy al begin skryf het, het sy nog vir tien jaar lank die pad geloop met kinders grootmaak en huiswerk doen. Sy het self die kinders se klere gemaak met patrone van McCall’s en Simplicity. Marina le Roux vertel dat sy met genoegdoening die mooi “lappies goed” wat sy vir hulle gekoop het van haar geld wat sy met die skrywery ingebring het, omskep het tot klere: “…goudgeel vir Kumi, want dit trek so die goud uit haar hare”. “Maar Wille, so in die tienerjare, was vol serwitute oor presies hoe ’n rok moes wees. ‘Kyk, Wille, ek is nie Minnie McCall nie, gehoor!’ ‘Dit kan ek sien,’ sê Wille, ‘Ma is Minnie Simplicity!’”

Minnie Postma se eerste boek was Toe Ma nog Meintjie was wat in 1949 verskyn het. Dit is gevolg deur Meintjie betaal skoolgeld (1950), Meintjie raak verlief (1952), Meintjie kry haar deel (1953) en Meintjie word mevrou (1955). Dit was ’n reeks outobiografiese vertellinge oor haar jeugjare wat aan menige jong dogter vele ure se leesgenot verskaf het.

Behalwe Lettie Bock het sy ook vir volwassenes van die vrygesel van Lowergroen vertel, asook van die kleurvolle liegbek, Toon Prêns. Haar karakters was almal gegrond op ware mense, het sy aan Le Roux vertel, “want ek was my hele lewe lank so vrek bang vir plagiaat!”

Maar dit was veral Minnie Postma se versamelings Sotho-verhale wat aan soveel mense vreugde verskaf het en vir Hennie Aucamp laat sê het dat dit van die “lekkerste leeservarings” van sy jeug was. Dit het begin met Legendes uit die misrook van 1950, daarna Legendes uit Basoetoeland (1954) en is in 1964 afgesluit met  Litsomo. Oor die tien jaar wat verbygegaan het voor die publikasie van Litsomo het Minnie aan Marina le Roux vertel dat ’n skakelbeampte van ’n uitgewery met haar manuskrip Holland toe is. En daar het dit toe verbrand, hy is baie jammer, maar dis heel “waarachtich waar!”

Marina le Roux skryf dat Minnie Postma met hierdie verhale “werklik die betowerende kleipot van Sotho-folklore oopgemaak het”. “Tussen die hoë berge diep in die hart van Basoetoeland, het die statjie gelê, altyd in ’n newel van ylblou rook gehul. Daar is die meisiekind van hierdie verhaal gebore. Sy wat die naam gedra het van Konyana, Konyana, ’n skaap wat klein is, Konyana, ’n lammetjie. Sy wat later die naam Seliba ontvang het, Seliba, die oorsprong van ’n nuwe geslag, Seliba, bron, ’n fontein wat lateraan ’n rivier sou word.”

Oor die ontstaan van die bundels Sotho-verhale het Minnie Postma in 1958 in ’n skriftelike onderhoud met Naweekpos vertel dat die plaaswerkers op hulle plaas aan die grense van Lesotho (destyds Basoetoeland) geslagte lank vir haar familie gewerk het. Haar ouers het Sesotho met hulle gepraat en dit was vanselfsprekend dat sy hulle taal saam met Afrikaans sou leer praat. Die dogtertjies van die werkers was haar enigste maats en by hulle het sy ’n oneindige skat van speletjies, rympies en liedjies aangeleer en van die huishulp het sy die stories van die Sesotho-nasie leer ken.

Dit was nie vir haar snaaks nie, want al die mense van die omgewing het die verhale so leer ken. Dit was eers toe haar skoonfamilie dit as baie interessant beskou het, dat Minnie self besef het watter skat die verhale was. Haar man het haar aangepor om die verhale aan te teken en dit was toe dat sy besef het dat dit wat sy kon onthou, net die punt van die ysberg was. Die res het sy ook al vergeet en toe sy na die mense is om na die ontbrekende dele te gaan soek, het hulle vir haar gelag, want hulle leef in die moderne tyd en het nie meer tyd vir die ou stories nie.

“Dit het tyd geneem, harde werk gekos, en vasval geverg om die klompie verhale wat gebundel is, in die hande te kry. Maar vir die voorreg om dit te boek te stel, kan niemand so dankbaar wees as ekself nie.”

In 1974 is daar uit Minnie Postma se boek Alweer my bediendes oor die Afrikaanse Diens van die SAUK voorgelees deur Iris Bester. En in plaas van die sinnelose gekla oor die onderwerp van huiswerkers, is dit heerlike sketse wat spreek, nie net van ’n fyn sin vir humor nie, maar ook van ’n skerp waarnemingsvermoë en insig. Sy het aan die SAUK-bulletin van 5 Augustus 1974 vertel: “Dis seker omdat ek hulle taal, dis nou Sotho, vlot praat dat ek hulle so goed ken. Hulle het almal by my gewerk, elkeen van hulle. En dit was omdat ons verbonde was aan nywerheidskole en dikwels verplaas is. Partykeer het jy sommer die bediende so saam met die huis geërf, jy weet soos Dora vir wie ek so bang was …”

Een van Minnie Postma se laaste boeke was Bart Minnaar: die huiskat wat in 1970 uitgegee is. Daarin word die storie van ’n vrou en haar dogter vertel soos gesien deur die oë van die kat. Ook word daar vertel van Bart Minnaar (dit is nou die kat) se vele bemindes, want met ’n van soos Minnaar kan dit ook nie anders nie.

In 1974 is ’n versameling van Sotho-legendes deur Susie McDermid vertaal onder die beskerming van die Amerikaanse Folklorevereniging en gepubliseer deur die Universiteit van Texas en dit het aan Minnie Postma ’n plek gegee in Contemporaty authors.

En in 1984, ten tye van HAUM se negentigste verjaardag in Mei, is ’n keur uit haar Lettie Bock-verhale uitgegee onder die titel Lettie Bock beland in ’n omnibus met die oorspronklike Katrine Harries-illustrasies. Oor hierdie omnibus het Anna van Zyl in Volksblad (28 Julie 1984) geskryf: “’n Alledaagse leefwêreld word deur fyn styl en woordkeuse onderhoudend en vrolik oorgebring in ’n onvergeetlike karakter, oermoeder, oervrou wat in aller-eenvoud en opregtheid voor jou staan (…) ’n Heerlike boek dié wat jy sin vir sin geniet om die mense wat daarin leef, om die vertelwyse, die styl en woordkeuse en die warm humor. En Katrine Harries se sketse is ’n fees, want hulle weerspieël in beeld die skryfster se woordbeelding van die weergalose mens.”

In 1986 het Hennie Aucamp ’n keuse van sestien Sotho-sprokies van Minnie Postma gemaak en dit is deur Tafelberg uitgegee onder die titel As die maan oor die lug loop. Oor hierdie versameling het PD Swart in Beeld van 7 Junie 1986 geskryf dat die verskyning van hierdie bundel ’n “heerlike gebeurtenis” is.

“Dit was reeds lankal tyd dat die sprokie of volksverhaal sy regmatige plek in ons prosa gegun word. So dikwels al moes dit  agterweë bly terwyl minderwaardige produkte op die voorgrond gekom het. Dié versameling, deur Hennie Aucamp byeengebring, wil ’n mens maar hoop, lui ’n nuwe tydperk in.

“Met die keuse van die sestien sprokies is daar nie fout te vind nie. Die samesteller moes dit moeilik, maar terselfdertyd ook sommer baie lekker gevind het om sy keuse te maak. Met die motivering vir sy keuse skort daar niks.

“Dié is van die skryfster se heel bestes, in boeiende ritmiese styl geskryf, sprankelend, deurgaans interessant. Maar uit die verhale spreek ook ’n leefwyse, ’n verlede eiesoortig en tog as jy kennis van sprokies dra, universeel. Die sprokies word voorafgegaan deur ’n insiggewende inleiding van die samesteller.

“’n Mens wil die lesers nooi om te kom kennis maak met Senkatane, die kind wat met tande gebore word, blitsvinnig volwasse word en heldedade pleeg. Of Tselane wat met die mensvreter wat sy stem verander, te kampe het, of met Polamakgwasa, die vrou met die stert en vele ander karakters en hulle wedervaringe. (…)

“Opsommend, ’n lofwaardige poging van skryfster, samesteller en uitgewers!”

In Volksblad (17 Mei 1986) het Anna van Zyl geskryf wat haar dadelik getref het, was Minnie Postma se skryfstyl. “Dit klink nie soos oorvertellings van gehoorde stories nie, maar asof sy self die 'wyse' is wat volkstradisies, opvoeding en boeiende verhale uit die verlede aan die kinders oordra.

“Die styl is gestroop van alle flambojansie. Hier word byvoorbeeld nie byvoeglike naamwoorde of bywoorde gebruik om ’n saak te beklemtoon nie, maar wel herhaling, en hiermee kom die ritme en poësie in die prosa, tesame met ’n prikkelende klankrykheid. (…)

“Vir my was dit ’n besondere avontuur om die bundeltjie te lees en ’n mens is dankbaar teenoor Hennie Aucamp dat hy dié legendes aan die vergetelheid ontruk het.”

Alba Bouwer se resensie (Die Burger, 6 Julie 1986) oor As die maan oor die lug loop het só begin: “Die titel van dié bundel Sotho-verhale het ewe veel bekoring as die stories self. Daar is iets in elkeen wat ’n leser laat loskom uit die greep van die alledaagse en doodgewone, hom wegvoer na ’n ander werklikheid wat vreemd en tog so bekend voorkom. Daar is iets in van die vreemdheid van die sprokie en terselfdertyd die bekendheid van die wêreld met sy liefde en haat, nyd en goedheid, trou en ontrou en al die verwikkeldheid van die verhouding tussen mense. Miskien lê die bekoring grootliks in die manier waarop Minnie Postma, ’n baasverteller, die ou legendes aan ons oordra. Sy ken die Sotho, die idioom van sy leefpatrone en sy taal en die milieu waarin die mense geleef en die ou volksverhale ontstaan het. Daarom kan sy ook die stemming van Lesotho met sy hoë berge, bruisende riviere en diep klowe so in die vertellings laat leef. Daarom is daar die herhaling waarsonder geen Sotho kan vertel nie: ‘So praat hulle elke dag. Net so, net so, net so.’ En die beelde wat so natuurlik by hulle kom: ‘Die trop loop agter hom deur die water. Hulle loop deur en dit gaan soos ’n groot reën wat val.’ ‘Jy kan nie die rysmier aan die kop gryp solank hy nog besig is om uit sy gaatjie te kruip nie. Jy moet jou kans afwag.’”

Op 4 November 1989 is Minnie Postma in die destydse HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria aan koronêre trombose oorlede nadat sy ’n maand lank in en uit die hospitaal was. ’n Dag voor haar afsterwe het sy haar lewensverhaal by haar uitgewers afgelewer.  Sy is oorleef deur haar vyf kinders, elf kleinkinders en een agterkleindogter.

In haar lewe was Minnie Postma nie net ’n skrywer nie, maar sy was ook ’n wewer en geselser, skryf haar dogter Wille Martin in Die Vaderland van 6 November 1989. “Sy was ’n briefskrywer by uitmuntendheid, soos bekendes met wie sy jare lank rondom skrywers en ander kultuursake gekorrespondeer het, kan getuig. Wanneer sy met iemand só ’n band knoop dan kan hy of sy maar weet, die dag sal kom wanneer hulle een van ta’ Minnie se handgeweefde behangsels met haar naamtekening daarop, sou ontvang.

“Tant Minnie het nooit oud geword nie … al het haar liggaam moeg en afgeleef geraak, het haar verstand skerp gebly, het wêreldsake, politiek, letterkunde en natuurlik haar Godvresenheid haar aan die dink en bespiegel gehou.”

Hoe ’n groot belangstellingsveld Minnie Postma gehad het, blyk duidelik uit ’n artikel wat sy in die laat jare vyftig oor Afganistan geskryf het. Charles Smith het hierdie artikel tussen haar dokumente wat by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) in Bloemfontein opgediep. Hy skryf hieroor in Volksblad van 7 Januarie 2002: “‘Die mense is vurig van aard en baie bakleierig,’ skryf sy in 1957. ‘Ongelukkig dink hulle ook niks daarvan om te roof nie. As jy van fyn steel wil praat, moet jy na Afganistan gaan.’

“Dit is in die vorm van ’n kinderstorie vir ’n reeks oor verskillende lande in die wêreld geskryf, maar is waarskynlik nooit gepubliseer nie.

“Dit is feitlik seker dat sy nooit Afganistan besoek het nie, maar inligting uit talle bronne gekry het om die karakters so getrou moontlik af te rond.”

Sy het onder andere briewe geskryf aan die Britse Ambassade in Kaboel in Afganistan, asook aan die sekretaris van buitelandse sake in Pretoria.

Oor haar werk het Gretel Wybenga in Boekewêreld (15 Mei 1996) geskryf: “Ek wonder waarom daar nie meer ophef van Minnie Postma gemaak word nie, en dan by name van daardie wonderlike verhale in veral Litsomo (1964). Ook Clarissa Estés (Women who run with wolves) sou haar Jungiaanse hande moes saamslaan by die lees van dié Afrika-verhale.”

Met haar 80ste verjaardag het Danie Botha in Die Burger van 18 Augustus 1988 vertel van ’n middagete saam met tant Minnie en Kumi om die publikasie van As die maan oor die lug loop te beklink. Ná die ete is hy saam met die twee vroue na Kumi se woonstel om ondersoek in te stel na die defekte weeftoestel van tant Minnie. “In die woonstel vertel sy hoe Susie McDermid haar verhale aan die Amerikaanse lesers beskikbaar gestel het, van geleerdes wat haar stories bestudeer. Sag en soet begin sy die Sotho-liedjies sing, met die ‘fyn stemmetjie, net soos die geelborsvoëltjie’ sing. My vrese vir die weefstoel verdwyn. Sy trek jou in na haar en die Sotho’s se domein, na donker klowe en waterdieptes waarin blink drake snork. Haar leed en geluk – daarin laat sy ’n mens deel met haar briewe. Hartlik, warm. Jy moet dadelik antwoord.

“Miskien kenskets sy haarself die beste in dié brief waarin sy ons vra om ’n eksemplaar van As die maan oor die lug loop aan Gerhard Beukes te stuur: ‘Die liewe man, hy is een wat deur dik en dun aan my geglo het en my hart verbly het met publikasies en sulke knop-in-die-keel inskripsies voorin dat ek weet hy sal ‘ons’ boek met liefde ontvang. (My man het gesê ek is soos Herodus wat vir Salome gesê het, vat, vat, vat, net wat jy wil hê, al is dit die helfte van my koninkryk).’ Op my bedkas lê ’n blou-en-grys geweefde mat – van tant Minnie.”

Marina le Roux het haar artikel, “Ons maak die kleipot oop”, ook vir Minnie Postma se 80ste verjaardag geskryf. “Op die seer sterke ouderdom van 80 jaar, is Minnie Postma se lewe so ryk en so boordensvol dat sy mildelik uitdeel aan almal wat haar ken: onuitblusbare lewensdrif, onwrikbare geloof in die goeie, en ’n eerlike, onpretensieuse humorsin. ’n Humorsin wat sy op onbaatsugtige wyse met haar medemens deel. Soos die kwessie van geweefde lappies wat sy aan al haar vriende dwarsdeur die land stuur, soos ook destyds aan Morkel van Tonder.

“Hulle twee het saam ’n radioprogram aangebied en Morkel skryf toe vir Minnie ’n baie mooi waarderende brief daarna. Sy dag toe, nee kyk, so ’n brief moet haar kinders hoor. Toe almal in die sitkamer voltallig is, lees Minnie die brief voor, ‘met nadrukke en pouses op die regte plekke’. Toe sy klaar is, heers daar ’n verslae stilte, totdat ’n fluisterstem, duidelik hoorbaar opklink: ‘Ja, en nou gaan Ma natuurlik dadelik vir Morkel ’n lappie weef.’

“Jare later het sy met vreugde die storie vir Morkel vertel: ‘Maar Minnie, dan moet ek nóú my lappie kry!’En hy het! Ek het selfs my lappie gekry, Oorskotjie, wat ek nie vir ’n kosbare Baluchi sal verruil nie – hulle sê mos Allah het die eerste Baluchi ook van oorskotjies gemaak!

“En dit is so tipies van Minnie Postma, haar volwasse humorsin, nie ligsinnig nie, maar diepsinnig. Humor, soos Hennie Aucamp dit stel, nie van die salonsoort of studeerkamersoort nie, maar aardse, opregte humor, uit die rooi grond van haar geliefde Lesotho.”                                

Publikasies:

Publikasie

Toe Ma nog Meintjie was

Publikasiedatum

  • 1949
  • 1954
  • 1957
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meintjie betaal skoolgeld

Publikasiedatum

  • 1950
  • 1957

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Legendes uit die misrook

Publikasiedatum

  • 1950
  • 1953
  • 1854
  • 1958
  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Folklore

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Likkewaantjie en Pikkewyntjie

Publikasiedatum

1950

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Weglopertjies

Publikasiedatum

1950

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kewaantjie en Kewyntjie

Publikasiedatum

1951

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meintjie raak verlief

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1957

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bulane

Publikasiedatum

1952

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Aan moeder se knie: Bybelverhale vir die kleintjies

Publikasiedatum

  • 1953
  • 1962

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Bybelverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meintjie kry haar deel

Publikasiedatum

  • 1953
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Twee kalantjies

Publikasiedatum

1953

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Legendes uit Basoetoeland

Publikasiedatum

  • 1954
  • 1956
  • 1957
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Folklore

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Meintjie word mevrou

Publikasiedatum

1955

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek en my bediende

Publikasiedatum

1955

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lettie Bock kom kuier

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skurwejantjies en stories

Publikasiedatum

1957

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Naweekpos

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tot siens Talettie

Publikasiedatum

1957

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Toon Prens

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Alweer my bediendes

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oom Pop gooi duim

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1988 (grootdruk)

ISBN

0868121908 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onder een kombers

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit die skaduweekant van die straat

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brug oor die see

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die raaisel van die kruithoring

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Litsomo

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bobbie van der Jaan

Publikasiedatum

1966

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vrygesel van Lowergroen

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1986(grootdruk)

ISBN

0868121207 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kabouter Kapot

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1971

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons maak die kleipot oop

Publikasiedatum

1968

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: SAUK

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bart Minnaar: die huiskat

Publikasiedatum

1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tales from the Basotho

Publikasiedatum

1974

ISBN

0292746083 (hb)

Uitgewers

Austin: University of Texas

Literêre vorm

folklore

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lettie Bock beland in die omnibus

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798613408 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Rostrum

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As die maan oor die lug loop: Sotho-verhale

Publikasiedatum

1986

ISBN

0624023540 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Folklore

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In die begin …

Publikasiedatum

2000

ISBN

1920001028 (hb)

Uitgewers

Pietermaritzburg: Sanpat

Literêre vorm

Folklore

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

In the beginning: legends from Lesotho

Publikasiedatum

2003

ISBN

192000 (hb)

Uitgewers

Pietermaritzburg: Sanpat

Literêre vorm

Folklore

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tshimolohong

Publikasiedatum

2000

ISBN

1920001042 (hb)

Uitgewers

Pietermaritzburg: Sanpat

Literêre vorm

Folklore (in Suid-Sotho)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Minnie Postma beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Le Roux, Marina: Ons maak die kleipot oop.
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Minnie Postma (1908–1989) appeared first on LitNet.

André le Roux (1954–)

$
0
0

Gebore en getoë

André le Roux is op 14 Julie 1954 in Bellville gebore. Hy is die jongste van drie kinders van pa Abrie en ma Chrissie. Sy twee ouer susters is Alida en Netta. "My pa het enigiets gedoen – van skoolbus ry tot ’n vis-en-tjips-winkel bedryf – maar die grootste deel van sy lewe was hy betrokke by die oprigting van staalkonstruksies vir geboue. Hy’t my geleer met my hande werk – kan ’n spyker inslaan, twee, drie houe, die laaste twee totaal onnodig,” sê André aan Suzette Truter in Sarie van 9 Februarie 2000.

André word groot op Matjiesfontein, Laingsburg, Franschhoek, Koppies in die Vrystaat en Parow. Hy vertel vir Murray la Vita (Die Burger, 7 Maart 2008) ietsie van hulle verblyf op Matjiesfontein: "Daar is twee dinge van Matjiesfontein wat ek onthou. Die een is, daar was ’n ou tennisbaan waarvan ek onder om die draad reggemaak het, en al my skilpaaie het ek op die tennisbaan aangehou.

"En dan as my susters soggens by die huis uitgaan skool toe, dan gaan ek en my ma veld toe. Dan pak sy vir my ’n vuurtjie – Matjiesfontein raak minus. Die ding wat ek baie goed onthou, is elke paar minute sê sy: 'Ek het werk om te doen; ek kan nie hier bly staan nie!' En dan bly staan sy.

"Tien minute later dan sê sy weer: 'Ek het werk om te doen; ek kan nie hier bly staan nie!' En so het ek en sy vir wat gevoel het na ure, soggens in die veld net rondom die vuurtjie gesit."

Hoewel André eintlik in die stad grootgeword het, is Montagu die plek waarheen hy sal teruggaan as hy aan sy jeug dink. Hulle het gereeld by sy ouma in Montagu gaan kuier en hy onthou Donderdagaande se samekomste van sy ouma en haar vriende baie goed. "Hulle het saam gebrei, gehekel, koffie gemaak en gekuier. Ek het altyd doodrustig daar gesit en die stories van die dorp gehoor. Dit het my miskien ’n oor gegee vir grootmensgeselskap en plattelandse intriges," vertel hy aan Sarie (24 Februarie 1988).

Hy onthou ook dat die ouma op Montagu se broer by haar gebly het. "Die oom was half seniel en het knaend op ’n stoel in die kombuis gesit en vaak word. Slaap mog hy nie, want dan lê hy snags wakker. My ouma het hom wakker gehou deur partykeer ’n skoen langs hom op die vloer te gooi en te sê: 'Jy, word wakker!' My speletjie was om hom raak te gooi, en so wakker te hou.

"Ons is later weer vir ’n naweek Montagu toe. Ek het daarna uitgesien om die oubaas te treiter. Maar toe ons daar kom, was die atmosfeer in sy peetjie, want die oom was besig om dood te gaan. Dit was ’n eienaardige ondervinding. Jy sien nog daarna uit om uit onnutsigheid die oom wakker te hou, en dan gaan hy dood."

In dieselfde Sarie sê André dat hy nie aan ’n spesifieke moment kan dink toe hy "grootgeword" het nie. "Grootword is seker soos ’n bekering. Dit kan óf skielik kom óf geleidelik gebeur. Miskien het dit begin toe ek vier jaar oud was, toe ek by my ouma se begrafnis gehuil het omdat almal gehuil het. Hoewel ek nie besef het wat aangaan nie, kon ek aanvoel hier is nou ’n treurigheid. Ek het haar ’n kort ruk geken – my Swellendamse ouma. Dalk het doodservaring iets met my grootword te doen."

André beskou homself as ietwat van ’n laatlammetjie. Hy word onder vroue groot – sy ma, susters, oumas en sy pa se oujongnooisuster. Hy onthou sy ma as ’n koesterende moeder wat vir hom die emosionele dinge geleer het. Hy is altyd deur sagmoedige vroue gedra en dit is waar hy sy respek vir vroue geleer het.

Nog een van sy herinneringe aan sy kuiers by sy oupa en ouma op Montagu was een van Oukersaand toe almal, ook die kinders, kon wakker bly tot twaalfuur: "My ouma het in die buitestoof koekies gebak – ’n volle dag. Die een dag word die deeg gemaak, en die volgende dag word die koekies gebak. En dié koekies word als uitgedeel aan die bruin mense van die dorp.

"Twaalfuur in die nag dan hoor jy net so ’n ruising, dan loer jy so oor die vensterbank, en dan hoor jy nou hierdie ruising op die stoep ... en dan begin sing hulle ... Kersliedjies. En dan word die deur oopgemaak, en elkeen kry koeldrank en koekies en what have you. Dan is jy ’n klein seuntjie wat daar tussen die grootmense opkyk ... en so." (Die Burger, 7 Maart 2008)

André het in Goodwood gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Na matriek is André na die Universiteit Stellenbosch, waar hy met ’n onderwysbeurs begin studeer het. Hy sien egter nie kans vir die Hoër Onderwysdiploma nie, “want onderwysers het vir my so ’n deursnee-dommigheid in hulle” (Cape Librarian, Junie/Julie 1988). Hy doen toe honneurs in Afrikaans en Nederlands.

Na sy studies is hy weermag toe. Dit neem hom na plekke soos Ovamboland, Ladysmith, Pretoria, Bloemfontein en Johannesburg.

Op skool en universiteit stuur André kortverhale aan Huisgenoot, maar dit is nooit aanvaar nie. Van sy kortverhale is egter in Brandwag gepubliseer. In matriek begin hy gedigte skryf en in sy derde jaar op Stellenbosch (1977) word sy digbundel Struisbaai-blues: ’n testament 1973 – Desember 1975 gepubliseer. “Ek het nooit gedink ek gaan ’n skrywer word nie, ek het net iewers langs die pad agtergekom dat ek kan skryf. Daar was niks spesiaals wat my aangespoor het nie.”

Struisbaai-blues word deur die sensuurraad as ongewens verklaar, en dieselfde gebeur met sy volgende boek, Te hel met Ouma!: ’n fotoverhaal (1980). Struisbaai-blues is in 1980 weer deur Human & Rousseau aan die Publikasieraad vir heroorweging voorgelê, maar dit is weer ongewens bevind. Die verbod is later opgehef.

In Die Burger van 28 Julie 1977 het Roy Pheiffer geskryf dat Le Roux se stem in hierdie digbundel nog "gans te veel skryn; die krampagtige gebaretaal moet nog plek maak vir die insnydende wóórd; by die stemmingsvers en liefdesvers lê voorlopig sy sterkste kwaliteite."

Te hel met Ouma!, wat deur Taurus uitgegee is, is deur JP Smuts beskryf as ’n "kort eksperimentele roman waarin hy doelbewus en soms opsetlik afwyk van tradisionele vertelgnieke" (Die Burger, 2 April 1981).

Smuts het sy resensie as volg afgesluit: "Le Roux se werk het nog nie tot ’n bevredigende en oorspronklike geheel geword nie, maar dit verbaas ’n mens nie by ’n beginner nie. Belangriker is die belofteryke onderdele wat verwagting vir die toekoms skep. Op die duur is dit enkele tonele in hierdie roman wat ’n mens bybly en nie die monstering van tegnieke nie."

Dorothea van Zyl (Beeld, 23 Maart 1981) som Te hel met Ouma! as volg op: "Die basiese gegewe (vir sover dit afleibaar is) handel oor ’n hooffiguur wat ná ’n mislukte liefdesverhouding ten eerste ’n aantal waarnemings doen van dinge wat hy in die nag op straat teenkom. Hy is 'n tipiese outsider-figuur wat nogtans nie volkome buitestaander bly nie. Op die een of ander manier word hy telkens betrek. Dit gebeur veral in sy nadere kennismaking met die groep mense rondom die ietwat sinistere figuur van Ouma, ’n persoon wat haarself besig hou met die okkulte, kaartlesery ensovoorts."

Vir Van Zyl is een van die pluspunte in die roman die humor en satire, asook die manier waarop die skrywer dit regkry om die drade bymekaar te bring. Wat haar egter gepla het, is die oordrywing en die samehangende langdradigheid.

In 1981 is die verbod op Te hel met Ouma! opgehef en is bevind dat die boek wel letterkundige verdienste het en nie by ’n groot leserskring byval sal vind nie.

In 1980 begin Le Roux as joernalis by Beeld in Johannesburg werk. Daarna is hy vir vyf jaar by Huisgenoot en vanaf 1985 by die Kaapse dagblad Die Burger, waar hy uitblink as teater-, film- en boekkritikus.

In 1984 word hy aangewys as die eerste wenner van die FAK-Joernalistiekprys, wat in daardie jaar ingestel is. Die keurkomitee was beïndruk deur die akkuraatheid van sy beriggewing, sy suiwer en ontspanne beheersing van Afrikaans en sy strewe na objektiwiteit. Hulle bevind dat sy artikels in Huisgenoot ’n besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek gelewer het.

Sewe jaar ná Te hel met Ouma! word André se Sleep vir jou ’n stoel nader gepubliseer. Dit is ’n bundel kort prosastukke wat deur André P Brink in Rapport (13 September 1987) as ’n "opwindende prosabundel" beskryf word.

Brink gaan voort: "Die jongste publikasie stam uit die vorige prosas: die hardegat-joernalistieke opset, die irreverensie, die puntigheid – behalwe dat dit veel keuriger versorg en tot in fyn onderdele déúrgewerk is. (...) Sleep vir jou ’n stoel nader is ’n skitterende bydrae tot ’n prosalyn wat onder andere vanaf Katastrofes oor Liefs nie op straat nie loop, met Jeanne Goosen ook ter sake; en ’n versamelteks wat mens oor en oor kan besig hou."

Ook Sleep vir jou ’n stoel nader is aangekla, maar het darem die sensuurraad se byl vrygespring. Vir André was dit nogal ’n skok toe sy boeke verbied is, want dit is nie iets wat ’n mens sommer verwag nie. Maar al het hy dit geweet of verwag, sou hy nog geskryf het wat hy geskryf het.

In 1988 skryf André ’n eenvroutoneelstuk, Bybie, vir Shaleen Surtie-Richards. Dit word in Johannesburg, Windhoek, Port Elizabeth, Bloemfontein, Kimberley en by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. In 1993 is hy een van vier skrywers wat gekies word om aan TV1 se Afrikaanse Drama-afdeling se projek Vierspel deel te neem. Elke skrywer (die ander drie was Eleanor Baker, Zirk van den Berg en Melvin Whitebooi) moes ’n draaiboek vir ’n enkeldrama skryf wat op dieselfde basiese gegewe gegrond was. Elke draaiboek sou ’n ander regisseur hê.

André is geruime tyd al lid van die vrouetydskrif Sarie se redaksie en tans is hy eindredakteur en ook ’n gereelde rubriekskrywer, met sy gewilde rubriek Op die vrou af (2003) wat al gebundel is. Sy vorige rubrieke wat in Beeld en Sarie verskyn het, is ook gebundel onder die titels Nou ja toe (2001) en Op die man af (2000).

André se rubrieke in tydskrifte en koerante is heeltemal anders as sy kortverhale. Hy verduidelik aan Murray la Vita (Die Burger, 7 Maart 2008): "Dis líg: dit het ’n bepaalde formáát wat elke keer afstuur na ’n gelukkige einde toe, en dis snaaks. So die bevrediging lê in die humor en in die feit dat mense die humor herken. Ek dink dis baie bevredigend.

"As ek besig is met rubrieke, dan lees ek fyn op soek na idees. En ek kyk en ek luister op soek na idees. Want dís waar ’n rubriek begin; dis waar enige donnerse ding begin: by ’n idee.

"Jy kyk met ander woorde op ’n bepaalde manier na dinge om jou. Jy soek die humoristiese. Jy soek die tipiese wanneer jy ’n rubriek skryf.

"Met hierdie kortverhale (Kom ons sit sommer by die tafel) kyk jy op ’n totaal ander manier na die wêreld. Jy neem anders waar. Jou waarneming is verskerp."

Tydens die Volksblad-kunstefees in 2003 lees Pedro Kruger uit Op die vrou af en dit is so gewild by die publiek dat dit in 2004 ’n volwaardige opvoering word met Sarah Theron en Pedro Kruger en Hennie van Greunen as regisseur.

In 2008 het Hennie van Greunen ook Op die vrou af 2 verwerk en is dit weer deur Pedro Kruger met Jolette Odendaal aan sy sy met groot sukses op die planke gebring. In 2009 is dit in boekvorm gepubliseer. Hulle was ook by Inniebos, en in die feeskoerant het Paul Boekkooi as volg oor die stuk geskryf: "'Musiekteater' sê die opskrif en dís presies wat dit is. Ook so ietwat kabaret-agtig – sou jy die Europese en Latynse invloede byreken. Beste van alles is dat dit op Afrikaans niks van sy aardsheid verloor nie. Hennie van Greunen, Pedro Kruger en Jolette Odendaal sorg voluit dáárvoor.

"Met André le Roux se rubrieke in Sarie  as inspirasie, vertel Op die vrou af 2 die verhaal van twee getroudes wat sommer so ’n bietjie van mekaar af weggedryf het. Geensins kwaadwillig nie. Hulle leef net so ietwat te veel in hul eie wêreldjies. Veral hy. Sy weet nog presies hoe om passie op die spoor te kry. Hy nie, en hy reageer nie te wakker op hare nie, of interpreteer dit verkeerd.

"Die show is ook musikaal eweneens ’n polsende duospel waarin Odendaal en Kruger weet hoe om die stembande te laat vibreer vir effekte wat die omvang van die voorstedelike stadsprokie op ’n besondere manier laat tintel met opwinding. Dié twee is só natuurlik op mekaar ingestem, dat hulle aanvoeling vir mekaar totaal intuïtief aandoen. Dit is dan ook dié bestanddele wat die aanbieding by tye so bo sy alledaagse gegewe laat uitstyg. (...)

"Die Le Roux/Van Greunen-teks ontgin die verskillende maniere waarop mans en vroue op dieselfde basiese gegewens reageer en dít is vanselfsprekend die teelaarde vir die slagveld tussen die geslagte. Hulle gaan terug na hul matriekafskeid en dié sekwens wat bestaan uit loslittige gebaljaardery waarin mimiek en ander vorms van fisieke teater tot hul uiteinde gevoer word, styg dan bepaald uit as een van die komiese hoogtepunte van Op die vrou af 2. (...)

"Maar humor in al sy fasette is presies dit wat hiervan ’n treffer in eie reg maak. Mag die professionele driehoeksverhouding tussen Kruger, Odendaal en Van Greunen lank bly floreer!"

In 2001 is André een van die finaliste vir die Mondi-toekenning vir sy Op die vrou af-rubrieke en in 2003 is hy die wenner van die Mondi-toekenning vir dieselfde rubrieke. Hy is ’n kategoriewenner vir die Media24-prys vir joernalistieke uitnemendheid in 2003/2004 en in 2004/2005 word hy aangewys as die beste rubriekskrywer en palm hy die Media24-prys in, ’n eer wat hom weer in 2006 te beurt val. In 2006 word hy ook aangewys as Media24 se Joernalis van die Jaar en die streekwenner van Vodacom se Joernalis van die Jaar.

Hy publiseer in 2008 Kom ons sit sommer by die tafel by Human & Rousseau. Dit is ’n bundel kortverhale waarin Sleep vir jou ’n stoel nader ook volledig opgeneem is. In ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger (7 Maart 2008) vertel André dat die storie van die babadogtertjie, Khensami Mitileni, wat in 2006 in Johannesburg doodgeskiet is, die impetus agter die bundel was en dat dit hom diep geraak het. "Primêr gaan die boek vir my oor die geweld teen kinders. Jy weet, dit is een van daardie onvergeeflike dinge wat elke dag gebeur. En dis asof die werklikheid die boek agtervolg.

"Ek het pás die storie van Khensani klaar geskryf wat op haar ma se rug doodgeskiet is van alle plekke ... toe skiet hulle vir Daniellé Esterhuizen dood op haar ma se skóót. Dis half ondenkbaar. En dit hou net áán en áán en áán ..."

Joan Hambidge resenseer hierdie bundel in Die Burger van 24 Maart 2008 en skryf: "Die tekste van André le Roux was nog altyd in omstredenheid gedompel. (...) Deur grensverskuiwings. Deur tekste wat die werklikheid uitdaag, beskryf en na ons terugkaats sodat die leser ongemaklik voel oor geweld, machismo en ongeregtigheid. (...)

"Le Roux het met Sleep vir jou ’n stoel nader – wat weer in hierdie bundel opgeneem is – die sogenaamde new journalism in Afrikaans ontgin. As voormalige joernalis by Huisgenoot het hy verhale geskryf na aanleiding van werklike gebeure: ’n opehartoperasie op ’n kind, ’n besoek aan ’n lykshuis, die naglewe ... (...)

"In hierdie ryk geskakeerde bundel ruk Le Roux jou oudergewoonte aan die keel met sy vonkprosa. Hy skryf ’n eerste verhaal wat minimalisties afgeweeg is rondom ’n weduwee Celliers se eensaamheid en haar huishulp. Die tweede verhaal is oor dieselfde Beauty: gebaseer op ’n koerantberig in Die Burger van 6 Januarie 2007. Welvaart en armoede; Madam en bediende word teenoor mekaar afgespeel en die leser voltrek die eintlike verhaal in die gemoed.

"'Deur ’n loergaatjie' is ’n gelade, skokkende verhaal wat inspeel op die gegronde vrese van die daaglikse bestaan in Suid-Afrika: selfs die behulpsame nutsman moet gewantrou word. Dit word gesinkopeer met dokumente soos ’n doodsberig oor PW Botha, ’n rasseklassifikasie en ’n Akte van die Suid-Afrikaanse Weermag wat die leser laat intuimel in die niemandsland tussen die ellende van die ou en die nuwe Suid-Afrika.

"Dit is ’n ruimte van ontheemding, onsekerheid, geweld, brutaliteit en ’n versugting na ’n ruimte van rus. Al dié toestande verken die skrywer met sy priemende blik. Hy is ’n Isherwood met ’n videokamera wat oral ingaan en afneem. (...)

"Vele van die tekste speel met outobiografiese gegewe, of dít wat ons meen herkenbaar of realiteitsfiksie is. Wat is teks? Koerantberig, FAK-program, dokument, brief word alles verhaal. Die invloede van Raymond Carver se dirty rea­lism is hier te lese, asook die verbluffende kortkuns van Dave Egger­s, wat soos Le Roux ’n verhaal skryf wat tussen gedig en kortverhaal geanker is. Charles Bukowski praat saam en die ouer en nuwe bundels word ’n tweeluik: een vorm van geweld word vervang met ’n nuwe aanslag. Die styl is gestroop, die effek afgeweeg, bykans asof jy ’n prosagedig lees. Hoekom is daar soveel verlore kinders? Op die dag dat Khensani Mitileni se moordenaars gevonnis is, verskyn dié boek oor ’n gemeenskap waar kinders geen beskutting het nie. Die bundel praat met Ingrid Jonker se 'Die kind', oor die ellende wat nie end kry nie. Dit is tekste van paranoia. ’n Allamagtige boek. Grensverskuiwend goed. Te hel met al die middelmatige prosa wat tans in Afrikaans verskyn!"

Gunther Pakendorf (Rapport, 5 Mei 2008) is eweneens beïndruk en hy sluit sy bespreking as volg af: "Kom ons sit sommer by die tafel is soos ’n mosaïek wat uit talle flitsligbeelde bestaan. Tesame bied dit ’n ontnugterende blik op die daaglikse werklikheid van die Reënboognasie. Dis boeiend en vernuftig. Dit laat jou regop sit en hard dink – as jy nie in jou ontbyt verstik het nie."

Oor Kan ek maar aan jou selluliet vat? wat in 2010 uitgegee is, skryf Riana Scheepers in Die Burger dat dit amper te goed is om waar te wees dat ’n verhoudingsgids geskryf is deur ’n man wat nie ’n kenner of seksuoloog is nie, maar ’n "boerklong" wat van vroue hou. En dat dit ’n goeie ding is dat dit nie ’n seksgids is nie, maar ’n verhoudingsgids.

Johanna van Eeden gee in Beeld van 17 Januarie 2011 haar mening oor hierdie verhoudingsgids van André le Roux: "Op die rugkant van die boek word dit beskryf as 'Die Kook & Geniet van intieme verhoudings'. Gee dit dus met vrymoedigheid vir die pasgetroude as huweliksgeskenk, saam met SJA de Villiers se immergroen kookboek. Diegene wat graag in die kombuis woel vind metterjare hul gunsteling-resepte.

"Kan ek maar aan jou selluliet vat? is ’n verhoudingshandboek soos daar nog nie voorheen werklik in Afrikaans bestaan het nie. Die krag daarvan lê in die gesprek wat dit in verhoudings kan losmaak. Verskillende mense (met dieselfde hormone) sal verskillend dink daaroor. Wat belangrik is, is die dia­loog en die sáámdink oor jul verhouding wat dit kan ontknoop. Want, soos ’n wyse man lank gelede gesê het, sommige mense beplan járe aan hul troue en amper niks aan hul huwelik nie."

Le Roux is nie ’n persoon wat lief is om oor homself te praat nie. Hy is egter baie lief om met sy hande te werk en hy kan liries raak oor ’n stuk Oregon-dennehout. In 1992 verskyn sy eerste boek wat nie kontroversieel is nie op die rakke met die titel Huisgenoot Doen-dit-self / You do it yourself.

André is getroud met Marté, ’n kunstenaar, en het twee dogters, Petro en Selene, uit ’n vorige huwelik. Marté is sy klankbord – sy lees elke rubriek voor publikasie.

In sy onderhoud met Murray la Vita het André vertel dat hy nog eendag ’n roman wil skryf oor die country-sanger Jim Reeves wat nie regtig dood is nie. Hy het al die eerste hoofstuk en die einde geskryf, maar weet nog nie so lekker van wat tussenin gaan gebeur nie. Wat hy wel weet, is dat Jim Reeves op Montagu aankom, voor die hotel met sy tas. Hy moet egter nog uitwerk hoekom Jim Reeves teruggekom het.

"Ek het waardering vir ou goed, maar ek is happy met die hede."

Publikasies:Publikasies

Publikasie

Struisbaai-blues: ’n testament 1973 – Desember 1975

Publikasiedatum

1977

ISBN

0798107413 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Te hel met ouma!: ’n foto-verhaal

Publikasiedatum

1980

ISBN

0620048298 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sleep vir jou ’n stoel nader

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798120630 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Huisgenoot Doen-dit-self / You do it yourself

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129255 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Doen-dit-jouself-boek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sarie: Op die man af

Publikasiedatum

2000

ISBN

0798140291 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nou ja toe 1999–2000: ’n keur uit sy Dinsdag-rubriek in Beeld

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798141565 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op die vrou af: Sarie 2001–2003

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798143983 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kom ons sit sommer by die tafel

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149242 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Op die vrou af 2

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798154185 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Rubrieke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kan ek maar aan jou selluliet vat: hoe mans se koppe werk (indien wel)

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780624048398 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

André le Roux as samesteller:

  • Sarie 40 flitsverhale. Kaapstad: Human & Rousseau, 2009

Artikels oor André le Roux op die internet

Artikels deur André le Roux op die internet

 

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post André le Roux (1954–) appeared first on LitNet.

Margaret Bakkes (1931–)

$
0
0
margaret250

Gebore en getoë

Margaret Magdel Bakkes is op 14 Desember 1931 op ’n plaas in die distrik Sterkstroom in die Stormberge gebore. Sy is die oudste kind van Hendrik Aucamp en Mathilda de Villiers. Haar ma was ’n sangonderwyseres, vertel Margaret aan Jeanette Ferreira in Rapport van 10 Desember 2011, "'n hoogs verfynde vrou wat moes aanpas in die ruwe Stormberge". In later jare figureer haar ma gereeld in Margaret se skryfwerk.

As gevolg van die depressiejare kon haar pa en oupa nie saam ’n bestaan op die plaas Klapkloof maak nie en kry haar pa werk as bestuurder van ’n groot melkplaas in die destydse Transvaal. Hulle vertrek na die Transvaal en die jare daarna was “swerfjare”, vertel sy. “Ná die melkplaas was daar ’n betrekking in die Departement Landbou wat ons die land laat deurkruis het – Pretoria, Brits, Dohne, Grootfontein, Pretoria ...” (uit "Soetdoring en sierkweper", in Klein koninkryk: vertellings uit die jeugland. Tafelberg).

Toe Margaret 12 jaar oud was, is haar oupa oorlede en keer hulle terug na haar geboorteplek. Sy woon onder andere die Girls’ High School in Queenstown by, maar omdat sy te veel verlang het na Sterkstroom, is sy terug soontoe, waar sy dan ook gematrikuleer het.

Die skrywersbloed vloei dik in Margaret se are. Haar kleinneef is Hennie Aucamp en sy kan onthou hoe hulle kleintyd saamgespeel het en drome gedroom het van hoe hulle eendag boeke sou skryf. Margaret is ook baie trots op haar Italiaanse voorsate, waar een stam van die De Villierse van Rocco Catorsia afstam.

Van kleins af moes haar ma vir haar voorlees en sy onthou veral Tien kaalkopmannetjies. Sy kon ure na die pragtige illustrasies kyk en terwyl haar ma lees, volg sy “die magiese letters”.

Op agt jaar, toe sy self kon lees, ontdek Margaret in ’n sneeuwinter op haar grootouers se plaas die boekie Jobje’s avontuurlijke jeugd deur G Schrijver (in 1925 uitgegee). Sy ontdek Nederland en raak verlief op die land. En saam met Jobje "kon ek toe al my keuse doen. Met die Kersboom kry Jobje ’n sinaasappel van die boom af. Hy kies kordaat: ‘Ik heb liever een boekje’” (Beeld, 1 Oktober 2001).

In Sterkstroom se dorpsbiblioteek moes tant Mara Pieterse sukkel om by te hou met die skrale oes wat op die rakke beskikbaar was. Skraal, maar tog kosbaar – soos Wuthering Heights, wat Margaret al in standerd 4 gelees het, en die vroeë Afrikaanse skrywers (soos JHH de Waal, Sophie Roux, Sita, Louise Behrens en Marius Gie) wat haar vroeg al laat besef het dat sy ook eendag ’n “Afrikaanse boek gaan maak” (Beeld, 1 Oktober 2001).

Verdere studie en werk

Na matriek vertrek Margaret na Pretoria, waar sy vir ’n jaar by die Vertaalburo werk. Sy begin haar naskoolse studie aan die Universiteit van Pretoria en behaal haar BA-graad met Afrikaans, Engels en Geskiedenis as hoofvakke. Na haar graad verwerf sy haar Hoër Onderwysdiploma aan die Pretoriase Onderwyskollege.

Sy hou twee jaar skool aan die Hoërskool Clapham in Pretroia en tree in die huwelik met Casper Bakkes, ’n geskiedkundige. Hulle het mekaar ontmoet toe Margaret as student by sy "moeder, die weduwee Bakkes" geloseer het. Hulle het eers vyf jaar later getrou, aangesien hulle eers moes klaar studeer en daarna ook werk kry, vertel sy en Cas aan Jeanette Ferreira (Rapport, 10 Desember 2011).

Haar man word aangestel as dosent aan die militêre akademie op Saldanha en die gesin woon 12 jaar daar. Die invloed van die Weskus is duidelik sigbaar in die naam Malgas, die naam van die huis in Pretoria waar die Bakkesse gaan woon het. Hulle het vier kinders: Johan, Marius, Matilde en Christiaan, van wie Johan en Christiaan self ook skrywers is. Margaret en Cas het later in die Paarl gaan aftree, waar Cas in Januarie 2016 na ’n lang siekbed oorlede is.

Terwyl Cas in Saldanhabaai gewerk het, het Margaret gevind dat sy iets moes doen "in daardie benouende militêre wêreld om my eie mens te bly". Al die tydskrifverhale wat sy gedurende daardie tyd geskryf het, het gesorg vir die "lekker deel vir die kinders, naas kos en klere, dinge soos ’n swembad en karavaan". Nadat die kinders die huis verlaat het, het daardie geld haar na Europa geneem, waar Nederland en Vlaandere diep in haar hart ingekruip het. (Rapport, 10 Desember 2011)

Margaret raak aanvanklik bekend as skrywer van tydskrifkortverhale. Haar eerste kortverhaal word in 1954 in Rooi Rose gepubliseer en so voeg sy haar by ’n lang lys Afrikaanse skrywers vir wie die gewilde Afrikaanse tydskrifte ’n oefenterrein en forum gebied het. En, vertel sy aan Anim van Wyk (Beeld, 20 Desember 2011), sy het nooit weer iets geskryf wat nie gepubliseer is nie. Daarna het skryf vir haar ’n “dwingendheid” geword: “Ek het in ’n sekere sin alles wat ek  beleef het, in terme van ’n moontlike storie gesien."

Van haar kortverhale word opgeneem in versamelbundels soos VertellersDie Afrikaanse kortverhaalboekHoogtepunte in die Afrikaanse kortverhaalkunsDogters van AfrikaWys my waar is TimboektoeBoeroorlogstoriesUit die kontreie vandaan en andere. Verskeie van haar kortverhale is in Nederlands vertaal en van haar publikasies verskyn in die Vlaamse tydskrif ZAN.

In die 1960's ontvang Margaret ’n oproep van Leon Rousseau van Human & Rousseau, wat voorstel dat van haar gewilde vervolgverhale in boekvorm uitgegee word, en Die verste reis word dan ook in 1966 gepubliseer. Vele ander volg en nog ’n teken van haar gewildheid was dat toe die eerste uitgawe van die Sondagkoerant Dagbreek in 1965 verskyn, dit ’n nuwe vervolgverhaal van Margaret bevat het.

Na die verskyning van Baksel in die môre, wat sy saam met Hennie Aucamp geskryf het, beweeg sy weg van hierdie genre. Sy vertel dat hierdie samewerking met Hennie vir haar ’n nuwe besef van haar skrywersambag gebring het. Hierdie wending blyk duidelik uit die feit dat haar volgende kortverhale nie meer in die gewilde tydskrifte verskyn het nie, maar in Tydskrif vir Letterkunde.

In Hoofstad van 7 Desember 1973 skryf AP Grové dat die vier verhale van Margaret Bakkes wat in ’n Baksel in die môre opgeneem is, gans en al anders is as dié van Hennie Aucamp. "Die  verhale kan in ’n sekere sin 'gewestelik' genoem word. Veral dié van Bakkes is vol tipiese trekkies, tipiese sêgoed en volkswysheid. Maar daarby bly dit nie. Albei die skrywers besit ’n eie taalgebruik, ’n eie manier van doen, ’n eie styl. Vandaar dat hierdie 'boerestories' uitstyg bo die geestelike en iets word van meer as verbygaande betekenis."

In hierdie nuwe fase van haar skrywerskap verwaarloos Margaret nie die romanvorm nie en verskyn Elegie vir ’n onbekende (1984), Susanna die geliefde (1988) en Kroniek van die sewe blou waens (1989). Susanna se inspirasie lê in die 150ste herdenking van die Groot Trek. Margaret wou baie graag oor ’n vrouefiguur skryf en het na vele oorwegings besluit dat daar baie stof en inspirasie te put is uit die lewe van Susanna Smit, die tienerbruid van eerwaarde Erasmus Smit. In 1989 word die Helpmekaar-prys vir Ontspanningslektuur aan Margaret vir hierdie roman toegeken. Susanna word in 1994 en 2003 weer uitgegee. In 1989 ontvang Margaret saam met Hennie Aucamp en wyle Jan Aucamp van De Aar ’n erepenning van die Sterkstroomse Rapportryerskorps in samewerking met die Direktoraat Kultuursake.

Geskiedenis speel ’n groot rol in baie van Margaret se werke. En die bewustheid van die geskiedenis kom van vroeg af: van haar rebelle-oupa, Christiaan Aucamp wat haar as klein kind vertel het van sy rol as rebel, asook van sy verblyf as voëlvrye in Nederland en dan natuurlik ook van haar pa en van haar man, Cas, af.

Kroniek van die sewe blou waens is gegrond op die lewe van Gerrit Maritz. Die titel slaan terug op die sewe waens met hulle platboogkaptente waarmee Maritz en sy familie noorde toe getrek het. Hy het hulle helderblou geverf. Margaret begin haar verhaal met Maritz se kinderdae in die Suurveld en volg dan sy lewe verder.

Vir Cecile Cilliers (Volksblad, 27 Desember 1989) het Kroniek van die sewe blou waens baie raakpunte met Susanna die geliefde, wat handel oor Gerrit Maritz se suster wat met Erasmus Smit getroud was. Vir haar val die verhaal, nes Susanna, tussen twee stoele: dit vertel nie net die geskiedenis nie, maar is ook nie altyd ’n storie nie. Ook is die beskrywing van die uitroeiing van die Zoeloe-krygers vir Cilliers onnodig wreed en kan dit vir haar geen heldeboodskap oordra aan jongmense – vir wie die boek eintlik geskryf is – nie. Tog slaag Bakkes daarin om die karakter van Maritz van wamaker tot mens geloofwaardig oor te dra.

Margaret vertel oor die inspirasie vir Elegie vir ’n onbekende: “[Dit] het ontstaan uit ’n paar flardes, ’n ‘sterfkennis’, en drie briewe wat ’n kollega van Cas in ’n argief ontdek het. ‘The past claws its way back’ – daar moes iemand wees wat treur oor dié droewige geskiedenis. Dit word die skrywer se rol: om die verlede deur ’n elegie te laat herleef. Uit wat hierdie stukke laat vermoed het – liefdeloosheid, verwerping, kortsigtigheid – skep Margaret ’n roerende lewensverhaal vir die onbekende vrou."

Elize Botha sê: "So vind die aansprake van die verlede weerklank in Margaret se historiese romans.

"Die genoemde wending in haar skryfwerk kan waargeneem word in die inhoud daarvan. Daar is ’n groter toegespitsheid op die streek, sy mense en sy geskiedenis in samehang met die landsgeskiedenis. Stilisties is die skryfwerk meer gestroop. Die herinnering is by hierdie inhoude ’n kragtige medewerker. So word die ‘stories’ terselfdertyd ‘memories’. Hierdie ingesteldheid is aanwesig dwarsdeur Margaret se werk sedert die wending en dit bied ook die sleutel tot die samehang en sin van haar laaste bundel, Littekens." (Beeld, 14 Desember 2005)

Elegie vir ’n onbekende is ’n samevoeging van waarheid en verdigsel. Dit is gebaseer op dokumente wat werklik bestaan. Die verhaal wat uit hierdie dokumente ontstaan het, is egter, soos Margaret self gesê het, "loutere verdigsel". En die leser moet dan besluit of die storie regtig uit die dokumente sou kon ontstaan het, het Ia van Zyl in die Suidwester van 29 Junie 1984 geskryf. Vir Van Zyl het Bakkes daarin geslaag om die slaggate van "oordadige emosie" te mis en is dit veral Helena se karakter wat ontwikkel tot ’n "romanpersonasie van besondere statuur" en kan Elegie vir ’n onbekende ten sterkste aanbeveel word. 

Bakkes het in Elegie vir ’n onbekende uit ’n paar karige feite met haar verbeelding ’n kragtige verhaal geskryf het – die storie van Helena Dreyer, wie se besonderhede sy by die Weesheer in Bloemfontein uitgekrap het. Helena was ’n hawelose ongehude ma wat ’n paar dae nadat haar babadogter gebore is in 1877 op Wepener oorlede is. Kerneels Breytenbach skryf in Die Burger van 19 Julie 1984 dat die skrywer die leser aangryp met hierdie verhaal: sy “vorm die treursang met begrip en simpatie, want haar personasies in hierdie novelle is baie sekuur geteken".

Madeleine van Biljon was van mening dat Margaret Bakkes as skrywer nie genoeg waardeer word nie, en waar daar altyd in Suid-Afrika, en spesifiek in Afrikaans, na "nuwe stemme" gesoek word, word daar heeltemal te min aandag gegee aan die "helder, rustige stem” van Bakkes, wat dit omtrent altyd regkry om met haar “stories en memories ’n bevredigende en soms verrassende blik te bied op wat gewoonweg die alledaagse genoem kan word.

"Sy skryf met so ’n onverbloemde eerlikheid dat die leser selfs ’n aks kriewelrig word oor die gewilligheid om soveel detail van ’n ander se lewe te bekom. Maar die rede (en troos) is dat elke stukkie opgediepte geskiedenis ’n klein, bykans onherkenbare lewensles bevat wat sterk herinner aan MER. (...)

"Trouens, met weinig uitsondering is Littekens suiwer plesier, kortkuns op sy beste, die woorde nuut genoeg vir enigeen wat dalk daarna smag. As mense optree soos die meeste van die persoonlikhede in Margaret Bakkes se boek, en ander hulle so kan beskryf, het ons reeds die 'verandering' waarna so naarstiglik pryse geskep word" (Volksblad, 5 September 2005).

Oor Littekens skryf Annemarie Marais (Beeld, 5 September 2007) dat hierdie boek haar geleer het om die skrywer Margaret Bakkes beter te verstaan. "Sy gaan soek na redes waarom dinge binne sekere families so op ’n spesifieke pad dwing, sy verwoord die stil pyn van dié wat gly en dié wat agterbly en neem ’n lewenspad in oënskou."

Ook Gerrit Brand meen dat Margaret Bakkes beslis kán skryf  (Die Burger, 24 September 2005). "Lesend aan die verhale in Littekens, gly ’n mens se oog oor die woorde, van een sin na die ander, sonder om ’n enkele keer te struikel, vas te haak of te verdwaal. En ’n mens weet: Maklik lees getuig van moeilik skryf – fyn woordkeuses, sorgsame sinskonstruksie, herhaalde herformulering. (...)

"Haar vertellings is egter nie ingegee deur die 9/11-gebeure nie, en fokus ook nie op kosmopolitiese karakters nie. Dit het juis ’n sterk plaaslike en persoonlike tematiek en tekstuur; dit is, soos George Louw op die agterplat sê, 'volstrek deurleef'. Die merkwaardige van Littekens is juis hoe die skrywer deur súlke verhale die uitdyende verweefdheid van plekke en periodes aan die lig bring."

In ’n lesing oor haar eie werk sê Margaret: “Die memorie wys heen na die outobiografiese. Dit moet deur die selektiewe en dikwels onbetroubare geheue uit die verlede herwin word, herskep word, brokkig, soms sonder grense ... ’n Memorie kan ook ’n treursang wees, ’n onontkombare aanspraak wat die verlede op die skrywer maak. Khales Hosseini sê in The kite runner: ‘The past claws its way back’” (Beeld, 14 Desember 2005).

Die Stormbergwêreld waar Margaret grootgeword het, is haar hartland en sy kon haarself nooit losmaak van hierdie wêreld nie. Sy vertel: “Dit voel soms vir my asof die plaas met die vreemde naam, aan die voet van die Stormberge, ver buite onthou verby, voorgeboortelik selfs, deel van my bestaan was. Soos geen ander plek ooit deel van my bestaan geword het nie. Hierdie verweefdheid het nie slegs te make met mooi herinneringe en soete nostalgie nie, maar ook met pyn. (...) En in die jare wat gevolg het, het die dorpie Sterkstroom, die plaas Klapkloof, die ganse omgewing, ’n vormingsinvloed en ’n assosiatiewe krag uitgeoefen, waarvan ek die omvang eers in my volwasse jare en as skryfster sou besef” ("Soetdoring en sierkweper", in Klein koninkryk).

Vir die navorsing van veral haar geskiedkundige romans maak Margaret gebruik van hulle uitgebreide boekery van geskiedkundige boeke, sodat dit nie vir haar nodig is om te veel aantekeninge te maak nie.

Van haar werk is vir skole voorgeskryf en vyf van haar romans is oor die radio voorgelees. Sy bied in 2007 die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse slypskool aan en in 1999 word Susanna die geliefde vir die verhoog verwerk met Joanie Combrink, Susanne Beyers en Johann Nel in die hoofrolle.

Margaret dink aan haarself as ’n storieverteller, maar erken ruiterlik dat dit eintlik haar man, Cas, was wat vir die kinders stories vertel het toe hulle klein was.

Sy is baie lief vir reis, omdat dit “bevrugtend” vir haar skryfwerk is, en verskillende lande beïnvloed haar elkeen op hulle eie manier.

Margaret het vroeër dae op ’n klein Remington-tikmasjien gewerk. Met die koms van die rekenaar het sy probeer om dié vir haar skryfwerk te gebruik, maar "dit het vir my gevoel die oomblik wat ek voor die rekenaar sit, kan ek nie meer ’n storie skryf nie. Dit was asof die storie verdwyn het. Asof ek so gefokus was op hierdie rekenaar en wat hy vir my gaan sê en wat ek daar gaan verkeerd doen, dat ek nie kreatief ... ek kon nie, ek kon nie, my storie wou nie kom nie. My storie kom uit my kop uit, deur my hande, op papier," vertel sy aan Anim van Wyk.

"Daarom skryf ek met die hand in ’n dik hardebandboek bo in my kamer by ’n lessenaartjie. Jy weet nie wat jy gaan skryf voordat jy met daai pen in jou hand sit met die papier voor jou nie. Jy weet min of meer wat jou tema gaan wees. Ek skryf, en soos ek skryf, word dit vir my duidelik wat om te sê."

Op haar 80ste verjaardag in 2011  word Margaret se jongste boek, Fado vir ’n vreemdeling, deur LAPA gepubliseer. Net soos haar ander boeke met ’n geskiedkundige agtergrond is ook hierdie roman op ware gebeure gebaseer.

Fado vir ’n  vreemdeling is gegrond op Cobus Ferreira se navorsing oor ’n stuk redelik onbekende geskiedenis van Boerekrygsgevangenes in Portugal tydens die Anglo-Boereoorlog. Die storie van Cornelis Homan en sy familie begin egter lank voordat die oorlog in 1899 uitgebreek het. Cornelis se ouma en oupa het ’n redelik goeie lewe gelei op hulle familieplaas Allesverloren, maar Cornelis se pa, as jongste, kon nie boer nie en hy moes ander werk vind. So beland hy as bywoner op Gert Benade se plaas. Cornelis gaan soek sy heil in Johannesburg, waar hy uiteindelik in die krotbuurtes beland. Sy vrou word ’n prostituut en sy ma en drie dogters se uiteinde is ook onbekend. Toe, met die aanvang van die oorlog gaan Cornelis op kommando en vir die eerste keer in ’n lang tyd voel hy in die veld weer vry, en met sy bevordering tot kommandant Mostert se adjudant, is dit vir hom asof hy weer iets in sy lewe bereik het. Maar so maklik is dit ook nie. Nadat hy saam met sy kommando na Mosambiek is, word hy as krygsgevangene na Portugal gestuur. En hoewel hy vir ’n wyle geluk probeer vind het, is sy uiteinde ’n eensame graf in die vreemde.  

Irma Joubert skryf op LitNet oor Fado: "Die roman is geskryf in ’n ouwêreldse, soms gelade taal. Tog bly dit lesersvriendelik, die taal pas by die tyd waarin die verhaal afspeel, dit dra by tot die atmosfeer. Plek-plek word dit pragtig poëtiese taal – fado’s vir die vreemdelinge in onbekende plekke.

"Die leser wat minder in geskiedenis belang stel, kan dalk voel dat die feite oorheers, dat die storie ingeboet word om plek te maak vir feite wat interessant mag wees, maar wat nie direk bydra tot die verhaalgebeure nie. Vir my as liefhebber van ’n goeie historiese roman is hierdie ’n boeiende verhaal van ontroerende menslikheid oor ’n stuk van ons volksgeskiedenis waarvan baie van ons min weet."

In Volksblad van 21 Januarie 2012 skryf Hans du Plessis: "(T)alent, sien ek nou, skrik nie vir die ouderdom nie; geskiedenis het per definisie met die oudheid te make en ’n goeie storie, weet ons mos, word nie oud nie. As jy daarby nog ’n grande dame van die Afrikaanse letterkunde is en jy kombineer dié drie dinge, dan het jy Fado vir ’n vreemdeling en jy haal die kortlys van Lapa se romankompetisie."

Vir Du Plessis is dit ’n "aangrypende fado".

In 2011 is Margaret op die Woordfees met ’n profielaanbidding gehuldig. Hennie Aucamp het reeds met 2006 se Woordfees met haar gesels en die gesprek is op LitNet geplaas tesame met die 2011-aanvulling.

Soos reeds genoem, het Margaret met haar vroeë lees van Jobje Nederland ontdek en op die land verlief geraak. "Later in my lewe kon ek dikwels self deur dié land se winterse strate stap en urelank knus en warm tussen De Slechte se rakke kuier met steeds die wete: 'Ik heb liever een boekje.' En Jobje op agt jaar het die deur tot die Nederlandse letterkunde en die moeitelose lees van Nederlands vir my ontsluit sodat, by die onvermoë om dit in Noors te lees, ek Sigrid Undset se Kristin Lavransdochter in die naasbeste kon beleef – in Nederlands.

"Want as ek dan nou een boek (wat my lewe verander het) moet kies, sal dit hierdie meesterwerk oor die Middeleeue en die lewensgang van ’n vrou wees. Undset was ’n waardige wenner van die Nobelprys vir letterkunde met haar diepe psigologiese insig wat haar in staat gestel het om al die fasette van die lewe uit te beeld. Sonder skroom of terughoudendheid. (...)

"Die wonderreis met boeke gaan nog elke dag voort. Van Conrad na Zola, van Tsjechof na Virginia Woolf, van Thomas Mann na William Faulkner, van Camus na Márques, van Rushdie na Pasternak, van JM Coetzee na Karel Schoeman. En aan en aan en aan." (Beeld, 1 Oktober 2001)

Publikasies:

Publikasie

Pad uit die vreemde

Publikasiedatum

  • [19-]
  • 1986 (grootdruk)

ISBN

0795905572 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Janssonius & Heyns
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Gebonde jare

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

0795919077 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vreemde tuiste

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1991 (grootdruk)

ISBN

0795923619 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verste reis

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1991 (grootdruk)

ISBN

0795923651 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Kring voltooid

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1987 (grootdruk)

ISBN

07795908768 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My broer se hoeder

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1987 (grootdruk)

ISBN

  • 0798101253 (hb)
  • 079590875X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brood en klip

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1987 (grootdruk)
  • 1994 (grootdruk)

ISBN

  • 0798103000 (hb)
  • 079591038X (hb)
  • 0868125717 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Beroering op Bergdal

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1986 (grootdruk)
  • 1993

ISBN

  • 0798102063 (hb)
  • 0795906609 (hb)
  • 0798130571 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bitterwater

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0798103043 (hb)
  • 0795920482 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soetdoring

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1986 (grootdruk)
  • 1990 (grootdruk)
  • 1992

ISBN

  • 0798103191 (hb)
  • 079590701X (hb)
  • 0795922728 (hb)
  • 0798130431 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

By Omdraai verby

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1988 (grootdruk)

ISBN

  • 0798104775 (hb)
  • 0795914431 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hou terug die winter

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1989 (grootdruk)

ISBN

  • 0798104787 (hb)
  • 0795917910 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar jou skat is

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1988 (grootdruk)

ISBN

  • 0798104384 (hb)
  • 0795915126 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klein land van die liefde

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1991 (grootdruk)
  • 2011

ISBN

  • 0798105631 (hb)
  • 0795923627 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Baksel in die môre: Boerestories uit die Stormberge (saam met Hennie Aucamp)

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624004368 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Ver plek vir Zilla

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1988 (grootdruk)
  • 2011

ISBN

  • 0798107375 (hb)
  • 0795914628 (hb)
  • 9780798151887 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat op die middag verwoes: vertellings van vroeër

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1980

ISBN

  • 0624009815 (hb)
  • 0624015076 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Margaret Bakkes-omnibus

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108606 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sing vir ons, Mathilda: verhale oor die begin en die einde

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624013340 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kortverhale

Publikasiedatum

[198-?] (grootdruk)

ISBN

0795914113 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die hart van Meeubaai

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1990

ISBN

  • 0798110570 (hb)
  • 079592299X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Madeleine van Biljon: The heart of Gull Rock

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Margaret Bakkes-tweeluik

Publikasiedatum

1982

ISBN

0798113383 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Elegie vir ’n onbekende

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1989
  • 1990
  • 1993 (grootdruk)
  • 2006

ISBN

  • 0624023060 (hb)
  • 0624028038 (sb)
  • 0868123749 (sb)
  • 0624044564 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Pretoria: Makro

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die langste nag en ander verhale

Publikasiedatum

  • 1984
  • 1990
  • 1991

ISBN

  • 0798116577 (hb)
  • 0798127902 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ontheemdes: vertellings van ander mense, ander plekke en ander tye

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624022641 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Altyd kom die somer weer

Publikasiedatum

  • [19-]
  • 1986 (grootdruk)

ISBN

  • 094993158 (hb)
  • 0795905602 (hb)

Uitgewer

  • Honeydew: Gerwe Boeke
  • Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

My ouma in kaneel

Publikasiedatum

  • 1986
  • 2009

ISBN

  • 0798119537 (hb)
  • 9780798151009 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Susanna die geliefde

Publikasiedatum

  • 1988
  • 1994
  • 2003

ISBN

  • 0798629207 (hb)
  • 0798636602 (sb)
  • 1919825614 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM
  • Pretoria: Kagiso
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Helpmekaar-prys vir Ontspanningslektuur 1989

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kroniek van die sewe blou waens: die kort lewe van Gert Maritz

Publikasiedatum

1989

ISBN

0624027955 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Terug van die doringpad (Oorspronklik in 1980 uitgegee onder die titel Terug van Weggewees)

Publikasiedatum

1990

ISBN

079592237X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engels vertaal deur Madeleine van Biljon: The road back

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die reise van Olga Dolsjikowa en ander onswerwinge

Publikasiedatum

1995

ISBN

0798133872 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Littekens: stories en memories

Publikasiedatum

2005

ISBN

0798145293 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bitterwater en Soetdoring

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798147538 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verhale uit die Stormberge

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148399 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verhale van die Weskus

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148405 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Romans

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klara kom tuis

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799344462 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Fado vir ’n vreemdeling

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799352146 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

’n Keur van biografiese artikels oor en deur Margaret Bakkes beskikbaar op die internet

 (Hierdie profiel is saamgestel uit NALN se knipselversameling en die internet vir die inligting. Daar mag dalk leemtes in die publikasielys en biografiese inligting wees.)

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Margaret Bakkes (1931–) appeared first on LitNet.

Totius (1877–1953)

$
0
0

Gebore en getoë

Jacob Daniël du Toit (Totius) is op 21 Februarie 1877 in die Paarl gebore, die tweede seun van SJ du Toit, leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, en Elizabeth Jacoba Joubert. Beide sy ouers was van Hugenote-afkoms. As kind is hy Japie genoem en sy oudste broer was Dawie. Twee dogters, Marié en Bettie, is ook uit die huwelik gebore. Uit SJ du Toit se tweede huwelik is ’n dogter, Magdalena, en ’n seun, Wynand, gebore.

Totius se ouers het met sy geboorte ’n vleuel van die Paarlse Gimnasium bewoon en dit is waar hy gebore is.

Joan Hambidge skryf in haar rubriek "Op my literêre sofa" dat Totius se suster Marié beskou kan word as die eerste Afrikaanse feminis. Sy was ook die skrywer van die eerste feministiese boek in Afrikaans, Vrou en feminis. Hambidge vertel van ’n berig wat in Die Burger van 28 Maart 1984 verskyn het waarin vertel word van hoe geskok die bure was oor Marié se gewoontes, soos fietsry, baadjiepakke dra en rook.

Totius het sy vroeë lewensjare deurgebring in die atmosfeer van die Patriot-manne in die Paarl. Toe hy drie jaar oud was, het hy in hulle agterplasie, waar die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) se drukpers in ’n klein buitehuisie gestaan het, gespeel.

In 1882 het die gesin na Pretoria verhuis waar sy pa vanaf 13 Maart aangestel is as superintendent van onderwys. In My jeugland het Totius hulle woonhuis en omgewing in Pretoria beskryf: "Die gebou was taamlik ruim, geleë ongeveer halfpad tussen die Kerkplein en die ou begraafplaas. Ek herinner my die situasie nog goed. Die huis was ’n entjie van die straat af weg, met die kombuis na die straatkant en die voorkant van die woning uitsiende op ’n lieflike blomtuin. My vader was ’n hartstogtelike liefhebber van blomme.

"Langs die straat was daar tralies, ondersteun deur groot wit pilare, waarop ek en my broer geklim het om die verbytrekkende burgers na en van Mapoch se oorlog gade te slaan. Aan die een kant van die huis was ’n geweldige roosheining waarin ons tonnels gemaak het. Aan die ander kant het oop saailande gelê.

"Aan die noordkant van ons huis was oop veld tot aan die volgende straat. In dié straat het die skool van mej Putzer gestaan. Daarheen is ek ook gestuur. Dit was my eerste skoolonderrig. Ek moet eintlik sê ek is daarheen gedra. Ek was naamlik onwillig om self met my boeksakkie te stap. Toe het die meidjie opdrag gekry om my skool toe te dra. Ek het haar darem nie te naby laat kom nie. Toe ek die kinders voor die skool sien speel, het ek gesê dat sy my asseblief moet neersit: ek sal self loop! En daarmee was die pad gebaan."

Die plaas waar die gesin gebly het, se naam was Rietfontein wat later ’n voorstad van Pretoria geword het. Die kinders het daar ’n goewernante gehad, mej Van Nierop, wat later met Oom Lokomotief getroud is.

Dit was in dieselfde huis dat sy moeder ongeveer ses maande nadat hulle in Pretoria aangekom het, oorlede is nadat sy nie eers vir ’n dag lank siek was nie.

Na sy moeder se afsterwe is sy pa in 1883 as lid van die Transvaalse afvaardiging na Europa en is Totius en sy broer teruggestuur na Dal Josafat naby die Paarl om by hulle ouma op die familieplaas te gaan woon. Hier was hy ’n leerling aan die bekende Gedenkschool der Hugenoten. Einde 1884 was SJ du Toit weer superintendent van onderwys en is die twee seuns en hulle susters terug na Pretoria. Saam met hulle is mej C Brünner, ’n Switserse dame wat hulle eerste moeder met die huishouding gehelp het. Sy het ook die twee dogters help versorg terwyl hulle by hulle ouma Joubert op Stellenbosch gebly het. "Inderdaad was sy ’n gesellige huisgenoot en lank het sy oor ons as moeder gewaak."

Op 8 Julie 1885 is SJ du Tout met Anna F Malan getroud, ook ’n dame van Hugenote-afkoms.

Vanaf 1888 tot 1889 het Totius en sy broer die Duitse kosskool van die Hermannsburgse Sendinggenootskap op Morgenzon naby Rustenburg bygewoon. Sy vader was beïndruk met die sendinggenootskap se godsdienstige beginsels, asook met die deeglikheid van die onderrig aldaar.

Oor hierdie skool het Totius in My jeugland vertel: "Daar het ons die Duitse taal geleer en kennis gemaak met die Duitse lied. Pastor Wickert, die hoof, was ’n uitnemende onderwyser. Met ’n dankbare hart dink ek nog aan die talentvolle man terug. Saterdags moes ’n aantal van ons die Latynse lesse volg, en Sondagvoormiddag was dit die tyd om die Evangelium op te sê. Ons was baie besig, maar ’n paar keer in die week het ons togte na die Magaliesberg (daar vlak by) georganiseer om byneste in bome en kranse uit te haal.

"Aangenaam en besielend kon mnr Wickert die Romeinse geskiedenis vertel, veral dié periodes waarin Hannibal teen Rome opgetree het. Buite skoolure het ons mekaar, op die gras uitgestrek, lê oorvertel die heldefeite van Hannibal. Ook pianospel het ons by pastor Wickert geleer.

"Maar ook hierdie periode het verbygegaan. Op ’n goeie dag het die veerwaentjie met vier osse skielik opgedaag. Ons moes huis toe gaan. My vader was voornemens om weer ’n Europese reis te doen. Die pad van die waentjie het oor Rustenburg gegaan. Volgens ou gewoonte het ons op die kerkplein voor die Indiër-winkel uitgespan. Daar is ’n bakkersbroodjie en ’n blik goue stroop gekoop – iets waarna ons uitgesien het. ’n Gawe maaltyd was dit."

Ná ’n oorsese reis saam met sy ouers het Totius teruggekeer na die Gedenkschool waar hy van 1890 tot 1894 leerling was, onder andere saam met AG Visser en DF Malherbe. FS du Toit was een van sy onderwysers. "Daar het ek toe ook die Elementêre, en die Skool-Hoër gedoen. Matriek het ek deur middel van private studie bereik. Vra nie hoe ek met die Arithmetic, Algebra, Geometry en Dynamics omgespring het nie!" Hy het sy matriek in 1895 geslaag.

Oor sy onderwyser ds FS du Toit het Totius aan G Dekker (Die Huisgenoot, 21 Februarie 1947) vertel: "Met ’n onuitsprekelike gevoel van piëteit en waardering denk die skrijwer van hierdie boek aan die onderwijser van sijn jeug, die man aan wie hij sijn grondvorming te danke het – ’n man van goeie geleerdheid, beslistheid en vaste beginsele, en tog innemend van aard, vriendelik en hartelik, die voorkomendheid en beleefdheid in persoon. Die skrijwer hiervan sien nog sijn korte, gesette gestalte, slaat nog gade sijn haastige, enigsins waggelende gang, grijp nog weer aan die korte, vaste hand, en kijk weer in die van gesondheid blosende aangesig. Hy denk aan die daë toe ds FS du Toit vir hom die modelmens was, aan die ure toen sijn meester hom geroep het om met hom in die studeerkamer te bid, aan die Sondagmôrens waarop ons sijn praktiese preke aangehoor het, vol lewenswijsheid wat nog naklink in die ore. Waarom kon nie alle Afrikaners sulke onderwijsers hê nie? Wanneer krij ons weer sulke meesters, en – súlke skole? Hoeveel manne, daar gevorm, is vandaag voormanne in die politieke en kerklike sake? Dit was ’n ware nasionale volkskool."

Verdere studie en werk

Hy wou ’n myningenieur word, maar nadat sy stiefmoeder hom oortuig het dat hy predikant moes word, is hy in 1896 na die teologiese kweekskool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp in die Oos-Kaap. Hier het hy hom voorberei vir die Literariese Eksamen om tot die teologiese skool op Burgersdorp toegelaat te word. "Omtrent vier jaar het die voorbereidende en teologiese kursus geduur. Dankbaar is ek vandag nog vir die leiding van prof S Postma (lettere) en prof J Lios Cachet (teologie).

“Dit was die jare onmiddellik voor ons groot oorlog. Ek was redakteur van Die Studenteblad. Dit het maar warm toegegaan in dié blad. Dit was ook te verwagte in so ’n sentrum van nasionalisme soos die Albertdistrik was." (My jeugland)

Op Burgersdorp was prof Jan Lion Cachet, ’n Nederlander van Portugees-Joodse afkoms, sy leermeester. Op 14 Junie 1899 het hy sy proponentseksamen afgelê nadat hy belydenis van geloof in die Gereformeerde Kerk afgelê het. Saam met hom was sy vriend ds GHJ Kruger. Daarna is Totius na die Transvaal, waar hy op verskillende plekke gepreek het.

Toe die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 uitbreek, is hy (teen die wil van sy vader) en Kruger saam met die Potchefstroomse en Heidelbergse burgers op kommando – Totius as prediker. Hulle is per trein na Volksrust en die eerste dag daar (12 Oktober 1899) het Totius ’n telegram van sy vader ontvang: "Verlaat onmiddellik die oorlogstoneel. Kom dadelik huis toe. Groete. Jou vader, SJ du Toit."

Uit sy dagboek blyk dit duidelik dat die jong Totius, behalwe die oorlogstryd, ook in ’n geweldige stryd gewikkel was om te kies tussen die Bybels opdrag dat jy jou vader en moeder moet eer en gehoorsaam moet wees en sy eie ideaal om saam met sy volksgenote vir persoonlike en volksvryheid te stry, skryf Martiens van Bart (Die Burger woongids, 4 Julie 1998).

Hy was deel van die Slag van Magersfontein op 11 Desember 1889. Hy het egter ’n slegte maagaandoening onder lede gehad wat hom gedwing het om na Burgersdorp terug te keer.

Hy het vertel: "Ek het my eie koers gevolg. Ek noem hier as bakens: Dundee, Ladysmith, Modderrivier, Magersfontein, Colesberg, eindelik Bloemfontein. Hier was ek enkele dae by Oom Lokomotief tuis. Daarna het ek my troue wit perd op die trein gelaai en na Pretoria afgereis.

"’n Maand ongeveer het ek daar die dienste waargeneem vir ds P Postma. Toe het ’n aantal broeders, veral Nederlandse broeders, by my aangedring om na Nederland via Delagoabaai te gaan ten einde daar af te studeer aan die Vrye Universiteit, Amsterdam. Hulle het my ’n som geld ter hand gestel en verder deur briewe vir my die pad finansieel gebaan. Nog altyd voel ek dankbaar dat hierdie geleentheid vir my deur dié vriende berei is. Wat ’n wêreld van kennis en ervaring het ek opgedoen!"

Oor sy sewe maande as Kaapse rebel saam met die Boeremagte in die veld was daar nie altyd baie bekend nie. Maar sy destydse verloofde, Marie Postma (ook sy latere vrou) het hom gevra om dagboek te hou van sy tyd in die veld. Hierdie dagboek is in 1977 (met die eeufeesvieringe van Totius se verjaardag) deur Tafelberg uitgegee onder die titel 64 dae te velde: Totius se oorlogsdagboek, met aantekeninge deur VE d'Assonville.

Die Vrije Universiteit is deur dr Abraham Kuyper daargestel en is gegrond op Gereformeerde beginsels. In Amsterdam het Totius kontak gehad met al die belangrikste teoloë in Nederland. Uit ’n brief wat hy aan JA van Rooy, ’n medestudent op Burgersdorp, het dit egter geblyk dat hy nie heeltemal só opgetoë was met die gees van die teologie in Amsterdam en Kampen nie, en dat hy geglo het dat daar eerder in Suid-Afrika gewerk moes word om ’n eie Gereformeerde teologie daar te stel. In 1903 het Totius met lof gepromoveer met sy proefskrif “Het methodisme”.

Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy op 26 Augustus 1903 in die huwelik getree met Maria (Marie), die jongste dogter van prof Dirk Postma, die stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Mione du Toit, aangetroude kleindogter van Totius, het aan Salomé Jacobsz (Beeld, 2 Februarie 1977) vertel dat ouma Marie baie spitsvondig was: "En sy het altyd die snaaksste sêgoed gehad. Haar troetelnaampie vir Totius was Jongie en die kleinkinders het hom later oupa Jongie genoem."

’n Suster van Totius het eenmaal gesê: "Marie is om Japie soos die heuwels om Jerusalem." Sy het hom baie goed verstaan en het geweet wanneer om te lag en wanneer om stil te bly. Totius was nie baie gesond nie en sy het nooit omgegee om haar spyskaart by sy eetgewoontes aan te pas nie. En sy kon ook altyd baie ligweg met sy erns spot en hom ook laat lag.

Hy het as volg oor haar gedig: "Sy skuif verby met mooie buig/ en stap met vlugge voetstap weg/ die vreemdeling sien skrams nog net ’n glimp – ’n glans en gouigheid/ maar nooit sal in sy lewenstyd/ dié ligbeeld uit sy siel verdwyn."

Uit hulle huwelik is twee dogters en vier seuns gebore. Wilhelmina, die oudste dogter, is op 31 Desember 1920 oorlede. Francois, die jongste, was net oor ’n jaar oud toe hy meningitis opgedoen het en is op 7 November 1920 daarvan oorlede. Totius het as volg oor Francois se afsterwe gedig:

Vier laaste snikkies
Van my sterwende wig! –
Wat hier al immer,
immer gebeur –
’k vergeet hul nimmer,
nimmermeer ...

In Desember 1920 het die gesin na die plaas Krugerskraal getrek. Op oujaarsaand 1920 was daar ’n geweldige donderstorm op die plaas en het ‘n weerligstraal een van die slaapkamers waar Wilhelmina en een van haar susters aangetrek het, getref. Wilhelmina is op slag dood. En weer het Totius gedig:

o Gee maar net ’n sekonde
van voorwetenskap, en sy
was nie dáár in die vreeslike stonde
toe die weerligstraal van ons dak sou gly.

o Gee my maar net ’n sekonde
van voorwetenskap, en ’k sal
van arg'lose wesens ontkoming verkonde
voordat nog die dood hul skielik oorval ...

As vader was Totius ’n liefdevolle man, maar baie streng, het sy dogter Bettie Smit aan Die Vaderland (8 Februarie 1977) vertel: "Een kyk van sy kant af het dieselfde uitwerking as ’n pak slae van my ma gehad. My moeder was wonderlik. Sy kon so baie dinge opoffer ter wille van my vader. Al die werk wat hy in ’n leeftyd verrig het, het hy aan haar te danke. Hy het altyd gesê sy is die minister van finansies, van binne- en buitelandse sake, naturellesake en nog justisie as die kinders baklei. (...)

"Hoewel hy baie hard gewerk het, het hy nooit ons gesin afgeskeep nie. Maaltye was altyd gesellig vir die hele gesin en Vrydagaande was daar speletjies, iets wat ons kinders baie geniet het. Ons het ook baie na vakansies uitgesein. Voor ons ’n rytuig gehad het, het ons vriende altyd ’n ossewa gestuur om ons te gaan haal. Dan het ons een aand in die veld geslaap.

"Wanneer ons toegelaat is om te swem, het vader altyd ’n stokkie in die dam gesteek en ons mag niks dieper ingegaan het nie. Dit was ’n bitter ding vir ons kinders om agter die stokkie te bly as al die ander kinders dieper ingaan."

Totius is in 1903 beroep na die gemeente Potchefstroom, wat amper die hele destydse Wes-Transvaal omvat het. Dit was ’n enorme taak om die gemeente te bedien, veral in die tyd na die oorlog toe armoede hoogty gevier het en daar nie eintlik betroubare vervoermiddels was nie. Totius het ook baie gou deel geword van die redaksie van Het Kerkblad – beide as redakteur en as gereelde medewerker. Hy was ook baie gewild as spreker, veral omdat hy die beginsel van Christelik-nasionalisme uitgedra het – op alle gebiede van die lewe, maar veral ten opsigte van die onderwys.

Totius is in 1911 aangestel as hoogleraar aan die Teologiese Skool, wat vanaf Burgersdorp na Potchefstroom verplaas is. Hy het self ’n groot aandeel aan hierdie verskuiwing gehad.

Vir die volgende 38 jaar (tot sy aftrede in 1949) het hy al die vakke in die teologiese skool aangebied, ook Hebreeus. Hy is erken as een van die kenners van die Gereformeerde leer en kerkreg en het as gevolg van sy kennis nie net in sy kerk die leiding geneem nie, maar ook daarbuite kundige raad gegee, veral in belangrike hofsake.

In Totius en sy verse beskryf LJ du Plessis die invloed wat Totius uitgeoefen het baie goed deur daarop te wys "dat Totius die Gereformeerde Kerk en sy Teologiese Skool verryk het deur die Afrikanerisme van die Genootskap van Regte Afrikaners, die Calvinisme van die Vrije Universiteit en die Anti-Rewolusionêre Party. Sonder hom sou die Gereformeerde Afrikanerdom veel minder veelsydig ontwikkel het onder die invloed van Afskeid en Reveil, soos verteenwoordig deur die professore Dirk Postma en Jan Lio Cachet."

G Dekker en JL de Villiers skryf ook in Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek (deel III): "Deur die verband wat bestaan tussen die Teologiese Skool en die Potchefstroomse Universiteitskollege, wat uit die Literariese Afdeling ontstaan het, kan die vurige yweraar (wat Totius was) vir ’n Christelike wetenskap ook hier ’n waardevolle bydrae lewer en word hy saam met prof F Postma die grondlegger van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en die eerste kanselier daarvan."

Totius was dus ook heel gepas die ontvanger van die eerste eredoktorsgraad wat deur die Potchefstroomse Universiteit toegeken is. Hy het hierdie graad op 21 Maart 1953 van die destydse kanselier, prof J van Rooy, ontvang. Vroeër, in 1934, het die Universiteit van Suid-Afrika, sowel as die Universiteit van Pretoria, eredoktorsgrade aan Totius toegeken. In 1937 is hy weer vereer deur eredoktorsgrade van die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam en die Universiteit Stellenbosch. In 1948 het ook die Universiteit van Kaapstad aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken, met die Universiteit van die Witwatersrand wat hulle in 1952 gevolg het.

Benewens Totius se digwerk was hy ook een van die vertalers van die eerste Bybel in Afrikaans. Hierdie belangstelling het hy van sy vader geërf. Hy het grootgeword in die tyd van die GRA met die taalstryd, die eerste koerante en sy pa se passie om die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Totius het reeds as 19-jarige op 14 Oktober 1896 ’n lesing oor die Bybelvertaling in Afrikaans voor die Teologiese Skool van Burgersdorp gelewer. En reeds as jong man het hy onder andere twee vereistes vir so ’n vertaling gestel, naamlik die noodsaaklikheid dat dit in die jong Afrikaanse taal van die 19de eeu moes wees, en dat dit uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks moes wees (Roeping en riglyne, Augustus 2008).

In 1923 het die Breë Kommissie van die drie susterskerke namens hierdie kerke op twee dinge besluit: eerstens sou twee voltydse vertalers aangestel word, naamlik JD du Toit (Totius) vir die Ou Testament en BB Keet vir die Nuwe Testament, wat ook die eindvertalers sou wees by wie die "eindbeslissing sou (...) berus”; en tweedens sou die vertaling uit die oorspronklike tale gedoen word.

Die vertalingswerk het tydens die volgende tien jaar gevorder totdat dit in 1933 afgehandel is. VE d'Assonville skryf in Roeping en riglyne (Augustus 2008) dat Totius hom in hierdie tyd feitlik voltyds afgesonder het op sy plaas Krugerskraal, wat 25 km vanaf Potchefstroom geleë is. Hier het hy vanaf 1924 tot einde 1932 die volgende Ou-Testamentiese boeke uit Hebreeus in Afrikaans vertel: Génesis, Exodus, Levitikus, Númeri, Deuteronomium, Job, Psalms, Jesaja, Jeremia, Klaagliedere en Esegiël. Vir hom was die moeilikste boek om te vertaal onteenseglik Job. Sy opmerking: "Job weier om Afrikaans te praat!" het later ’n gesegde onder die teologiese studente geword.

D'Assonville skryf verder dat Totius gewis ’n "toegeruste" vertaler was. Tydens sy studietyd in Amsterdam het hy by bekende akademici geleer en was hy ’n "buitengewone kenner van Hebreeus en Grieks. Vir sy doktorale eksamens in Dogmatiek by die bekende A Kuyper, het hy byvoorbeeld al die Skrifgegewens in die oorspronklike tale mondelings aangehaal. In hierdie tyd het hy die hele Nuwe Testament uit die Grieks ge-eksegetiseer, voorwaar ’n buitengewone taak!"

Gedurende sy leeftyd het Totius die Bybel 112 maal deurgewerk en hy kan as een van die grootste Skrifkenners in Suid-Afrika beskou word. Hy was nie net vlot in Duits nie, maar ook sy kennis van Latyn was uitstekend. Behalwe Engels kon hy ook Frans lees en het hy oor ’n briljante kennis van Hebreeus en ander Oosterse tale soos Arkadies, Aramees en Arabies beskik.

Wat hom verder geskik gemaak het vir die vertaling van die Bybel was sy kennis van, liefde vir en suiwer gebruik van die Afrikaanse taal.

Totius se presiesheid in die vertaling van die Bybel was buitengewoon, skryf d'Assonville in Roeping en riglyne. "Hy het met één enkele Hebreeuse woord tot op die been ingegaan totdat hy – soos wat hy gedink het – die presiese woord of die beste sinsnede in Afrikaans kon vind." Dit kan duidelik nagegaan word in sy korrespondensie met prof van Gelderen, kenner van Hebreeus in Amsterdam.

Totius was uiteindelik verantwoordelik vir die hersiening van die hele manuskrip van die Bybel in Afrikaans. Die Bybel is in Londen gedruk en daar het hy op die knoppie van Frans du Toit, Suid-Afrika se assistenthandelskommissaris, gedruk om nog die laaste foute in die proewe wat toe reeds by die drukker was, reg te maak.

Op 12 Januarie 1929 het Totius aan Frans du Toit geskryf: "Baie tyd is gegee aan revisie en proewe. Ekself het baie dae daaraan gespandeer om perikope in die Evangelies met mekaar te vergelyk. Nou is dit die vertalers se ernstige versoek of u so goed sal wees om verlaas toe te sien dat korreksies reg uitgevoer word voor afdruk." Op ’n aparte bladsy het hy lyste van die foute aangeteken en oor die feit dat die drukkers dalk ongeduldig sou wees met sy puntenerigheid, het hy geskryf: "Jammer dat ek u moet lastig val, maar ons (die vertalers) het probeer om hierdie eerste uitgaaf so goed moontlik te maak en hulle (die drukkers) moet dit maar verstaan."

Oor Totius se psalmberyming skryf WDJ in Oosterlig (27 Julie 1990) dat hoe langer ’n mens dit ervaar en daarmee saamlewe, hoe meer besef jy "dat ’n groot stuk van die digter se eie vroomheid en ervaring in hierdie werk neerslag gevind het. Die psalms het sy psalms geword. (...)

"Daarby kom nog dat Totius sy beryming nie as ‘n volkome oorspronklike werk gesien het nie. Hy het aangesluit by die Nederlandse beryming waarvan die woorde op talle plekke in Afrikaans oorgebring kon word, sodat die kontinuïteit met die Nederlandse psalms so ver moontlik bewaar kon word.

"En tog praat hierdie beryming op onmiskenbare wyse die taal van Totius met sy eie ervaring as mens, selfs die taal van sy Wes-Transvaalse wêreld. In die keuse van sy woorde en die hantering van bepaalde beelde word sy eie belewing van die omgang met God en sy eie verstaan van die evangelie sigbaar. (...)

"Totius het in die psalms dieselfde ervarings herken waarvan hy in sy eie lewe kennis gehad het, om deur God gekasty, vertroos, genees en aanvaar te word. Uit die wisselwerking tussen sy eie wandel met God en sy omgang met die teks het sy beryming van die psalms as ’n getuienis na vore gekom."

Totius se diepe betrokkenheid by die Bybelvertaling het noodwendig ’n invloed op sy familielewe gehad. Sy vrou, Marie, het altyd gesê dat die Afrikaanse Bybel ’n wonderlike gebeurtenis vir die volk was, maar dat dit die einde van die huislike lewe van Totius se gesin beteken het. Só het hulle dogter Bettie Smit ook aan Die Vaderland (8 Februarie 1977) vertel. Hy het hom teruggetrek op hulle plaas Krugerskraal terwyl hy aan die vertaling gewerk het.

Hoewel Totius in sy leeftyd nooit aktief by die politiek betrokke was nie, en ook nie ’n leidende rol in enige politieke party gespeel het nie, het hy nooit afsydig gestaan teenoor die politieke gebeure in Suid-Afrika nie. VE d'Assonville skryf in Taalgenoot van September en Oktober 1996 ("Totius by nabaat") dat dit Totius se "oorwoë mening was dat die Bybelse beginsels op alle lewensterreine toegepas moet word, ook in die lewe van die Afrikanervolk.

"Hy kon hom nie versoen met Uniewording in 1910 nie – die resultaat van generaals Louis Botha en Jan Smuts se konsiliasiebeleid. Totius wou liewer ’n federasie van state hê soos wat sy vader, SJ du Toit, dit in sy Afrikanerbond voorstel. Hierin kon die twee ou republieke van die Transvaal en die Vrystaat hulle verlore vryheid herwin. Uniewording het hy as “die vervalsing van die gesonde Trekkerspolitiek” beskou (G Dekker: Afrikaanse literatuurgeskiedenis, bl 75) – ’n verwerping van die ideaal van ’n ware Christelike beskawing in Suid-Afrika.

Totius het ook as opvoedkundige diep spore in die Suid-Afrikaanse samelewing getrap. In hierdie opsig is daar een oorheersende tema wat uitstaan, naamlik die Christelik- nasionale onderwysbeginsel. Uit sy proefskrifte, artikels en boeke kan ’n mens Totius se betrokkenheid by die CNO-stryd net na die Anglo-Boereoorlog duidelik sien – by die belangrike rolle wat hy gespeel het in kongresse, sinodes, as lid van nasionale komitees wat betrokke was by beleidsbepaling, lewering van verslae en as rigtingwyser (Woord en Daad, Februarie 1977).

In 1904 was hy lid van die Kommissie van Advies van die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk wat beleid en riglyne ten opsigte van die uitvoering van die Gereformeerde beginsel in die onderwys moes bepaal. Die CNO-skole is aan die regering oorgedra en in 1907 was Totius lid van die kommissie wat ‘n konsepstatuut vir ’n Vereniging vir CNO vir Suid-Afrika moes opstel. In 1909 en ook in 1911 is hy tot lid van die nasionale hoofbestuur verkies.

Met die opstel van ’n verslag in 1913 waarin daar ’n Christelike normaalskool vir die destydse Transvaal bepleit is, vir was Totius een van die belangrikste lede. ’n CNO-kongres is in 1917 in Bloemfontein gehou waartydens hy ’n referaat gelewer het oor "Die plek van die skool in ons samelewing".

In sy artikel in Woord en Daad (Februarie 1977) gaan Johann Bekker voort om ook Totius se rol ten opsigte van ander fasette van die opvoedkunde te bespreek, veral die filosofie van die opvoedkunde, praktiese opvoedkunde en historiese opvoedkunde.

Bekker sluit sy artikel af: "In ’n tydperk van verwarring ten opsigte van essensiële grondbeginsels, het dr JD du Toit en sy medestanders ’n helder koers ingeslaan. Hy self het deurgaans rotsvas op die CNO-beginsel gestaan. Die Vrye Groepskool-gedagte is nie verwesenlik nie, maar sekere kernbeginsels word nog gehuldig, eerbiedig en onthou. ’n Fondament is gelê en sy waarskuwings ten opsigte van die humanistiese teenoor die christelike gees bly steeds geldig, so ook die waarde van dogma in die godsdiensonderrig, en van die kernbelangrike rol van ouerseggenskap in die onderwys."

Wat Totius se digwerk betref: hy het in 1908 gedebuteer met Bij die monument, wat H Venter (Koers, Junie 1948) ’n "beskeie bundeltjie" genoem het. Dit was egter nie sy eerste gepubliseerde gedigte nie. Tydens die Eerste Taalbeweging het hy onder die skuilnaam Jaduto gedig, maar hoofsaaklik vertalings gelewer. Hy was egter reeds in die 1890's ’n ywerige deelnemer aan die taalstryd en was in 1895 die versorger van die tweede druk van Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk wat hy op datum gebring het.

In die voorwoord tot Bij die monument het pres Steyn geskryf: "Noudat jong Suid-Afrika sigself bewus word, en drome droom van ’n eige literatuur, verwelkom ik die soort van pennevrugte van ganser harte. Voor mij is die eerstelinge van onse literatuur so heerlik als die geluid van die eerste reëndruppels na ’n langdurige droogte!"

Terugskouend het Gerrit Dekker in Standpunte van 1955 die volgende oor Bij die monument geskryf: "Totius kan sy ontroering verbeeld in vorme, in beelde en wendinge wat nie altyd in die eerste plek eie vinding is nie maar wat wel self beleef is. Hy is nie revolusionêre digter, vormvernuwer, vormskepper nie. Hy is in dié sin tradisionalis, en van hom geld wat Verwey van Van Eeden gesê het: 'hij schept de taal niet, maar hij hanteert haar' - 'taal' in die wydste sin van die woord -, hoewel die begrip 'hanteert' te meganies is. Van hom kan nie gesê word nie wat dieselfde kritikus van Van Deyssel se 'Frank Rozelaar' gesê het: 'Het tragische van dit boek ligt hierin dat de schrijver dit denkbeeld wel bewoont, maar het niet beleeft.' Al die oorgelewerde gelykenisse (...) beleef hy op heel persoonlike wyse, veral ook deur sy innige inlewing in die Bybel, die oerbron van hierdie gelykenisse. Die Bybeltekste wat hy telkens as motto plaas, is nie maar 'afterthought' nie – hulle dui die oorsprong van sy siening, die grondtoon van sy ontroering aan, sy bepeinsing van wat reeds vroeër in die geloof gesê is. Dikwels het hy ook wat hy in die Skrif in kiem gevind het, tot eksplisiete beeld of gelykenis uitgewerk. En heeltemal in die gees van die Bybel skep hy self nuwe gelykenisse: die wilgerboom as beeld van ootmoedige skuldbesef, die lafenis skenkende ou put en die gewilliglik in die diepte sinkende betonblokke van die breekwater in Tafelbaai as beelde van die selfverloënende moederlewe (...). Dis nie fonkelende beelde soos gesien deur ’n sterk 'temperamentele' digter met ’n hewige ontvanklikheid vir wat die sintuie beroer, geen felle gewaarwording van kleur of lyn of klank nie. Die ontroerde peinser verhef tooilose dinge uit die vertroude sfeer van eie land, met sy nederige skoonheid, tot sag-glansende beeld van innige mymeringslewe.

"Soos reeds ten opsigte van sommige gedigte aangetoon, ontkom Totius nie aan die gevare waaraan ook hierdie stylaard blootstaan as by swakkere besieling verstandelike opset die plek wil inneem van spontaan gegroeide gelykenis nie."

Vir Dekker is "Kindergraffies" en "Vergewe en vergeet" twee van Totius se gedigte wat tot die suiwerstes van sy gedigte behoort.

Dekker skryf in dieselfde Standpunte (1955) dat die "grondtoon" van Totius se tweede bundel, Verse van Potgieter's trek, heeltemal anders is as sy eerste bundel s'n. "Totius gee hier nie bepeinsing van volksmart nie maar besing epiese stof. ’n Grootse konsepsie sweef hom voor: die geskiedenis van die donker kontinent, van die rol wat die blanke daarin gespeel het, voortgestu deur die ideaal van die Voortrekker by uitnemendheid, Hendrik Potgieter. Hy staan in hierdie konsepsie, soos ook in die literêre vorm, seker onder die invloed van die sy Calvinistiese geesgenoot maar digterlike antipode, die gloedvolle retorikus Isaäc da Costa. Maar Totius is in wese ’n lirikus, en die werk het ’n bundel afsonderlike gedigte gebly, fragmente van hierdie onvoldrae epiese konsepsie, in ’n verskeidenheid van digvorme. (...) Tot werklike simboliek styg Verse van Potgieter's trek selde. Daarvoor is dit te retories."

In Koers van Desember 1934 het G Dekker geskryf dat met die publikasie van Wilgerboombogies dit die eerste maal is dat die "digter van suiwer persoonlike liriek" na vore kom – "die sanger wat sy leed uitkla, met befloerste stem vol innigheid getuig van die wondere wysheid Gods wat aan hom in die smarte van sy lewe geopenbaar is. Hier kom sy ontroering tot volle verdieping en verreining – die bisondere word vergeestelik tot suiwerste simboliek."

In Die Brandwag van 15 Junie 1912 het A Francken geskryf dat Wilgerboombogies een van "onze klassieken" sou word.

Oor Rachel wat in 1913 verskyn het, het DF Malherbe in De Goede Hoop (1 Desember 1913) geskryf dat dit ’n "literaire skepping is waarin volheid van klank en rykdom, van beeld en gedagte, verenig om ’n magtig-werkende, diep-aangrypende stemming teweeg te bring. Totius het hier ’n kragtige stap vooruitgekom op syn digterloopbaan en ’n hoogte bereik in die elegiese genre wat hom beroemd sou maak als syn werk in ’n wereldtaal geskrewe was."

In Rachel word die Bybelse vrou "in haar lyding en rou als verhewe sinnebeeld geteken van algemene vroueleed en in die besonder van die lyding en opoffering van die Boerevroue. (...) Uitdrukking van inniggevoelde simpatie met die vrou in al haar lyding en opoffering, verheerliking van die vrou wat moeder wil wees en haar moederpligte tot in die dood wil vervul, dit is wat die gedigte wil verkondig. Van al die kranse, wat op 16 Desember aan die voet van die Vrouemonument sal geleg word, sal daar geen wees wat in die verste verte met die liederekrans van Totius kan vergelyk word nie. Dit sal lewe net so lang en mogelik langer als die Vrouemonument self."

In Die Huisgenoot van Augustus 1916 het die resensent (onbekend) Totius se volgende bundel, Trekkerswee, as ’n "epies-lyriese gedig" beskryf, "waarin die digter die eintlike verhaal gedurig afbreek ten einde een of ander liersang daartussen te skuiwe. Dat Totius dit verstaan om met dié moeilike kunsvorm wondere te werk, weet elkeen, wat Rachel gelees het; en Trekkerswee lewer ook weer ’n kragtige bewijs van die meesterskap van die digter in dié digsoort. (...)

"Ja, dit is waarlik wonderlik, hoe Totius alles uit die Afrikaanse natuur en uit die Afrikaanse omgewing weet te gebruik als ’n beeld om ons die wese van ons volk voor oë te stel. Ons weet almaal, op hoet treffende wijse dit reeds geskied is met die ossewa en die besembos in ’n vorige bundel; daarbij moet voortaan ook die tentwa en die ketel genoem word.

"Voor ons eindig wil ons net met ’n woordjie van waardering gewaag van die kunsvolle tekeninge van die heer Pierneef wat die bundeltjie versier. Ons het Trekkerswee in ieder opsig so mooi gevind, dat ons vas oortuig is, dat elke Afrikaner die gedig sal koop en lees en hulde breng aan die skrijwer, wat ons letterkunde met so ’n kunsstuk verrijk het."

Totius was ook die eerste wenner van die Hertzogprys in 1915 met Trekkerswee, ’n mylpaal wat hy weer bereik het met die ontvangs van dieselfde prys vir sy volgende bundel, Passieblomme (1934).

CM van den Heever het in Huisgenoot van 3 Augustus 1934 geskryf dat die leser van Passieblomme nie weer gedigte oor die volkslewe en -gedagte soos in Rachel en Trekkerswee moet verwag nie, aangesien die gedigte hier die "intiem-persoonlike smartbelewing van die digter" uitbeeld.

"Op die gebied van die persoonlike liriek is Totius die sterkste. Hier kom tot suiwer, kristal-heldere uiting sy innige gevoel wat altyd neig na die Diepte. (...) Passieblomme het veral ontstaan na aanleiding van die dood van twee van Totius se kinders: ’n seuntjie as gevolg van harsingvliesontsteking en ’n dogtertjie wat deur ’n weerligstraal getref is. Totius is die digter van die eensaamheid, en die smart wat hierdie groot verlies by hom opgewek het, het dan ook veral tot eensaamheidsbeelde verinnig, beelde waarop die skaduwees lê van weemoedige gemymer.

"Net soos in Wilgerboombogies word die tegniek van hierdie gedigte – baie is reeds ’n twaalf jaar oud – nie gekenmerk deur die verjongende werking van enjambement, ’n verlewendigende stuwing van gesigs- en gehoorsbeelde, ’n bonte afwisseling van intuïtief verhelderende sieninge nie. Die vormlewe van die gedigte getuig van ’n gevoelige innerlike wat nie tot opstandigheid geskok word deur verlies en ontnugtering nie, maar tot inkeer geroep word en die uiterlike verinnerlik tot simboliese beelde. Die gedagte vloei rustig, daar is soms selfs ’n oorheersing van die metrum oor die ritme, wat herinner aan baie psalm-berymings, maar daar is die onmiskenbare egte gevoel wat beelde skep en stuwing gee, nie kragtig of groots nie, maar eg en oortuigend.

"Soos soveel van Totius se werk is die bundeltjie in drie dele verdeel: onheil, onrus, berusting, en die gedigte in elke afdeling simboliseer dan vir ons ’n gevoelstoestand. Van groot verdriet kom die digter tot berusting in God. Maar hierdie proses gebeur nie gou nie. Die Calvinistiese digter se geloofsvertroue word swaar getoets en die doodsgeheim wil in sy vreeslikheid die digter se hele denklewe soms oorweldig. Die bundeltjie bevat deurleefde smartoomblikke wat so kenmerkend is van hierdie digter. (...)

"Totius het met hierdie bundeltjie die bewys gelewer dat hy nie 'uitgeskrywe' is nie. Hy is ’n digter wat van nature geneig is tot die digterlike bespieëling en soos Gezelle, sy geestesverwant, sal hy op sy oudag vir ons ’n beeld gee van ’n geadelde lewenservaring."

In Uit donker Afrika (1936) kon die leser verbeterde weergawes van die belangrikste verse uit Potgieter's trek vind, asook heelwat vaderlandse verse wat in die bundel vir die eerste maal in druk verskyn het. Die resensent in Ons Eie Boek (Januarie tot Maart 1936) het baie gehou van die verse uit Potgieter's trek. "Hulle is soms sterk in hul voordeel verander. Hul behoort nog tot die beste liriese uitinge van die digter. (...) Vir die toegevoegde gedigte het ons helaas weinig lof. Hier is die tipiese saaie en onbesielde van sy voor-Tagtiger voorbeelde in al hul banaliteit van vorm en inhoud, wat Verwey vir Totius, met ’n mate van reg, tot ’n digter van die verlede laat sorteer. Totius wil so graag epicus wees, maar daartoe ontbreek hom die nodige spankrag en visioenêre beelding. Dan probeer hy baie noodlottig om dit met dorre beredenering aan te vul."

In Die Huisgenoot van 24 April 1936 was G Dekker meer positief oor Uit donker Afrika. Dekker was van mening dat Totius met Passieblomme en Uit donker Afrika ’n "gesuiwerde en verinnigde kuns gelewer het".

Totius se laaste bundel gedigte was Skemering, wat in 1948 gepubliseer is. G Dekker was die resensent vir Die Huisgenoot van 30 Julie 1948 en hy het geskryf dat hierdie bundel se titel net sowel Herfsblare kon gewees het. Dekker was ook van mening dat Skemering "konsepsioneel nie so ’n eenheid as Totius se vorige bundels vorm nie. Tog is dit nie slegs ’n versameling onsamehangende gedigte nie, nie slegs 'verstrooide blare' nie. Die diepere eenheid is geleë in die digterfiguur wat daarin tot openbaring kom en wat ons reeds ken uit sy vorige werke. Nuwe lig werp die bundel nie op daardie kunstenaarpersoonlikheid nie, maar die beeld word weer bevestig en in sommige gedigte, veral in die eerste afdeling, verinnig, terwyl ook die ander afdelings naas werk wat minder deurgloei is tot suiwerheid, verse bring wat op die peil van Totius se beste kuns staan.

"Daar word die afgelope tyd betoog dat Totius nie direk in die dinamiese ontwikkelingsgang staan wat vanaf Marais oor Leipoldt en Toon van den Heever na Van Wyk Louw loop nie. Teenoor die waarheid wat hierin mag skuil, moet egter gewys word op die gevaar van eensydigheid waartoe hierdie historiese siening lei as dit ook waardebepaling wil wees. Van belang in die loop van die rivier is nie alleen die stroomversnellinge nie, maar ook die dieper gedeeltes waardeur die water langsamer stroom. Die kuns van Totius is een van dié seënryke poele waaromheen die wilgers mymerend hang."

Oor Totius se Kinderverse vir huis en skool, wat in 1920 verskyn het, was die resensent van Die Brandwag (Mei 1920) nie baie vleiend nie: "Suidafrika het kinderversies so bitter van node dat ’n mens geneigd was om Totius toe te juig vóór jij nog sij boekie oopgemaak het. Ongelukkig was desillusie druk op die spoor van die kennismaking, want die tietel is ongetwijfeld ’n wanvoorstelling van die werklikheid. Watter naam hulle ook mag verdien, kinderversies is hulle seker in enige opsig nie. Ouer-versies kon hulle met meer reg genoem word, en hieromtrent het, (volgens sij inleiding) bij die skrijwer self twijfel ontstaan. (...)

"Dit sou miskien onregvêrdig wees om die versies als kinder-versies te beoordeel, wijl die tietel so klaarblijkelik ’n verkeerde voorstelling is. Net één ding mag ons sê: dat ons die ongelukkige kindjie diep bejammer wat deur ouer of meester gedwing word om die versies te lees of te leer of aan te hoor, terwijl hij al die tijd weet dat hij buite bij die waanhuis die ou Boesman die vier lijne van 'Jan Piet-de-Wiet' kan hoor resiteer, of 'Daar kom die bobbejane!'"

In 1949 het CM van den Heever ’n keuse uit Totius se gedigte gemaak en is dit gepubliseer onder die titel ’n Keur uit die gedigte van Totius met ’n inleiding deur die samesteller. Die resensent van Die Vaderland (11 Maart 1950) was van mening dat hierdie keuse ’n baie goeie geheelbeeld van Totius se digterlike vermoë weerspieël. "Om poësie in sy eenvoudige, onvertroebelde vorm te bestudeer, kan ons aan geen beter digter as Totius dink nie. So helder en ongekompliseerd is sy gedigte dat ’n mens enigeen daarvan aan ’n matriekklas in Afrikaans kan voorlê en weet dat elke leerling die gedig werklik in sy wese verstaan. (...) Dit word tyd dat na die kritiese chaos van die afgelope paar jaar die regmatige plek van die ouer digters aan hulle toegeken word. Wie Totius se poësie met aandag en onbevooroordeeldheid bestudeer, sal insien dat ons hier met ’n eersterangse digter te doen het wat van die suiwerste gedigte wat ons besit, geskep het."

Daar het ook in 1988 ’n Versamelde gedigte van Totius by Tafelberg verskyn. Vyftig gedigte van hom het in 1976 verskyn en van sy gedigte is saam met Celliers en Leipoldt s'n opgeneem in Driesprong in 1978. Elf dele van Totius se Versamelde werke is sedert 1960 ook gepubliseer.

VE d'Assonville het gedurende sy navorsing vir sy biografie oor Totius op ongeveer 30 gedigte afgekom wat nooit gepubliseer is nie, asook enkele gedigte wat destyds in tydskrifte verskyn het, maar nie in sy Versamelde werke ingesluit is nie. Een van die gedigte wat D'Assonville gekry het wat in geen onbesliste taal spreek van Totius se afkeer van die Engelsgesinde Afrikaners nie, lui:

Ons kan gerus maar allemaal
Laat spat en spaner.
Dis hier ’n land van Jingo's en
van Kakie-Afrikaners.
Die miere het ’n koning en
’n land, waar hul tevrede
op miermanier kan leef, bevryd
van Kakie-narighede. (Taalgenoot, September 1996)

Op 1 Julie 1953 is Totius op 76-jarige ouderdom in die huis van sy seun Japie in Pretoria oorlede nadat hy vyf weke lank siek was. Hy is oorlewe deur sy vrou Marie en vier kinders.

Huldeblyke

  • A Roland Holst: "Wat my die meeste van Totius getref het, is sy byna heilige eenvoud, sy vriendelikheid, sy rus, sy erns, geen sweem van hoogmoed maar ’n opvallende skroom, ’n mens met edele kuisheid van siel, ’n suiwer mens. Geen wonder dat so ’n man die volksgewete van die Afrikaner beliggaam nie." (Padlangs, Maart 1977)
  • CM van den Heever: "Alhoewel hy professor van die Gereformeerde Kerk was, het sy wetenskaplike arbeid en digterskap hom verhef bo elke kerklike skeiding tot ’n figuur wat aan die hele Afrikaanse volk behoort. Sy bydrae tot die vertaling van die Bybel en die psalmboek in sy volk se taal was onvergeetlik groot. As opregte vaderlander het hy ook op meer as een tydstip met sy besielende woorde leiding gegee. Sy digterskap het van hom ’n profeet van sy volk gemaak." (Padlangs, Maart 1977)
  • Volksblad, 2 Julie 1953: "Wat veral beklemtoon moet word, is Totius se grootheid van gees, wat hom nie alleen ’n beminde leier in sy eie kerk gemaak het nie, maar hom oor die grense van die eie kerkverband laat heenreik het. Totius het nooit die maklike weg in die lewe gekies nie en ook selde vanself daarop beland. Hy het steeds verkies om saam met die minderheid smadelik behandel te word. (...) Totius is meermale vartes genoem. Met hierdie woord het die ou Romeine ‘n profeet, siener of sigter aangedui. Sy huldigers meen dat dit vandag nog die geskikste woord is om Totius te tipeer, veral met die oog op die hoë roeping wat hy en sy werk in ons volkslewe vervul het."
  • Volksblad (hoofartikel 2 Julie 1953): "Die hele Afrikanerdom beween vandag die heengaan van Totius, een van die heel grootste manne wat ons jong volk nog opgelewer het, ’n geestelike leier wie se lewenswerk deur die eeue heen sal voortleef. In die hart van die Afrikanerdom het ’n groot en dankbare liefde gebrand vir die beskeie en nederige Totius, wat, in weerwil van die buitengewone aansien wat hy in alle kringe geniet het, nooit anders was nie as opreg vriendelik en genaakbaar, met ’n humoristiese vonkeling in die oog en ’n onskuldige grappie vir almal met wie hy in aanraking gekom het en saam geleef en gewerk het. (...)

"Maar Totius het drie grootse take met onderskeiding verrig: hy was Calvinistiese teoloog, prediker en leermeester van naam; hy was Bybelvertaler en Psalmdigter wat in sy Afrikaanse Psalmberyming van die skoonste gewyde digwerk in die wêreld as erfenis aan ’n Christelike volk nagelaat het; hy was volksman en digter wat in sy eerste werke in opregtheid en diepe ontroering uiting gegee het aan die skrynende leed van ’n verwoeste en verskeurde volk en in sy latere jare ’n brug geslaan het tussen die eerste groot Afrikaanse volksdigters en die latere geslag Afrikaanse woordkunstenaars. Boonop was hy jare lank ’n erkende figuur in die Christelike joernalistiek."

  • C Louis Leipoldt: "Sy rang in ons Afrikaanse letterkunde kan vandag nog nie met volkome juistheid vasgestel word nie. Ons staan nog te na aan die gebeurtenisse wat bygedra het om aan sy werk ’n besondere betekenis en waarde te gee, om onpartydig dit te kan beoordeel. Maar niemand wat die minste gevoel vir poësie besit, niemand wat digterlike besieling en fantasie waardeer, en niemand wat waarheid erken as die hoogste vereiste van kunstenaarswerk, sal ooit twyfel dat hy die digterlike gawe in ruim mate besit, dat hy die talente waarmee hy bedeel was tot die beste van sy vermoë en met ’n wonderlike mate van sukses ontgin het, en dat sy digkuns uitblink deur opregtheid van gevoel, beskouing en vertolking.

"As volksdigter het hy noual ’n roem en ’n naam, en dit is onwaarskynlik dat in die verloop van tyd die kundige kritiek hom ’n laer plek sal toeken as wat hy reeds besit. Inteendeel, my eie mening is dat hy in die toekoms meer en hoër sal gewaardeer word." (Volksblad, 2 Julie 1953)

  • EC Pienaar: "So het hy ruim sestien jaar van sy lewe hoofsaaklik aan die Afrikaanse Bybelvertaling gewy, en dit moes vir hom ’n oorsaak van blywende vreugde gewees het dat hy as een van die begin- en eindvertalers daarvan kon optree en die verskyning daarvan kon beleef. Maar daarnaas het hy sedert baie jare ook aan die Afrikaanse psalmberyming gewerk en uiteindelik in medewerking met die betrokke interkerklike kommissie, die voldoening gesmaak om die Psalms in 1937 in druk te sien vir gebruik in sy eie kerk, en sy teks verder in 1944 opgeneem te sien in die nuwe psalm- en gesangboek van die ander Afrikaanse kerke. Ook vir hierdie groot taak was hy so te sê in die wieg gelê en verder nog voorberei deur sy voorafgaande vertaling van die Skrif-Psalms.

"Hier het Totius nie net ’n vertaling gelewer van die ou Nederlandse teks nie, maar in baie gevalle ’n besielde en kunsvolle vertolking van die oorspronklike Skrif-teks wat die ou Nederlandse beryming dikwels in skoonheid oortref. Volgens my beraming sal Totius se Psalmberyming sy grootste en mees blywende bydrae tot ons letterkunde blyk te wees." (Die Burger, 3 Julie 1953)

  • DJ Opperman:

In memoriam

Telkens as hierdie volk van God afdwaal,
sal hy in Afrika se klip en kaal
herinner word hoe groot Hy is
deur die tinktinkietaal van Totius. (Blom en baaierd) (Woord en Daad, Februarie 1977)

  • Klaas Steytler nadat hy Versamelde werke in 1977 persklaar gemaak het: "’n Mens moet met jou oë oop, noulettend deur hierdie man se groot arbeid beweeg. Dan eers kom ’n mens agter hoe groot sy landskap is, hoe vrugbaar die veld is, dan eers besef jy dat sy gestalte in die toekoms nog groter gaan wees was wat dit selfs nou is." (Volksblad, 17 Februarie 1977)

In Februarie 1977 met die 100ste herdenking van Totius se geboortedag is ’n landswye fees gereël om die geleentheid te vier. Terselfdertyd is ’n nuwe uitgawe van sy Versamelde werke gepubliseer, asook twee gesaghebbende bundels oor hom en sy werk, naamlik Die lewende Totius, wat deur Merwe Scholtz saamgestel is, en Totius: Balansstaat, wat 26 reeds gepubliseerde opstelle oor Totius bevat en deur FIJ van Rensburg saamgestel is. Ook het ’n familielid, Mione du Toit, Skrywers in beeld – Totius saamgestel wat skaars foto's van Totius bevat.

In 1971 is ’n komitee onder voorsitterskap van T van der Walt daargestel om die huldiging van Totius te koördineer, skryf Martiens van Bart in Woonburger van 4 Julie 1998. Die komitee het in Februarie 1973 begin om die oprigting van ’n standbeeld van Totius op Potchefstroom te bespreek. WJ Steyn, ‘n argitek, en Jo Roos, ‘n beeldhouer, is genader om ’n monument ter ere van Totius te ontwerp.

Die Totius-gedenktuin is langs die Wasgoedspruit uitgelê en geld is oor die land ingesamel vir die projek. Die sakeman Louis Luyt het die oprigtingskoste van die monument gefinansier en dit is tydens die Totius-eeufees deur die destydse premier, BJ Vorster, onthul. In 2009, nadat die beeld van Totius gevandaliseer is, is besluit om dit na die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit te verskuif. Jo Roos, die oorspronklike beeldhouer, was verantwoordelik vir die opknapping daarvan.

Totius het ’n belangrike rol in die geskiedenis van die destydse PU vir CHO gespeel, aangesien hy die dryfveer agter die verskuiwing van Burgersdorp na Potchefstroom was. Hy was ook die universiteit se eerste kanselier.

Op 19 Augustus 1994 het die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria ’n huldigingsprogram oor Totius aangebied. Die program sou bestaan uit tablo's, voordrag, sang en musiek.

Tydens die Aardklop Kunstefees in 2000 op Potchefstroom is twee inheemse bome, vaderlandswilgers, in die Cachetpark geplant ter ere van Totius en Sol Plaatje, wat albei in 1877 gebore is en albei hulle ervarings van die Anglo-Boereoorlog in dagboeke opgeteken het.

In Totius se eeufeesjaar het TT Cloete in Woord en Daad van Februarie 1977 die volgende oor Totius as digter geskryf: "Totius was ook ’n skrywer wie se betekenis méér as literêr was en is. In sy versamelde werk neem sy poësie maar ongeveer ’n tiende deel in beslag. Hy was iemand vir die Afrikaner op nasionale, godsdienstige, algemene kulturele en baie ander gebiede.

"Daar is ook ’n deel van sy werk wat nie tot sy poësie behoort nie en tog vir die groei van ons taal dieselfde betekenis gehad het as sy gedigte. Ek dink byvoorbeeld aan sy Bybelvertaalwerk. ’n Mens vra jou af of hy met sy gedigte meer gedoen het vir die slyp van ons taal as instrument as deur sy Bybelvertaalwerk. In dieselfde tyd toe hy in sy gedigte nog ’n soort literêre boektaal gebruik het, het hy in dele uit die Bybel wat hy vertaal het die eenvoudigste, nederigste en mooiste egte-Afrikaans gebruik. (...)

"Een van die dinge wat die betekenis van Totius vir ons literatuur belangrik maak, is dat hy, byna soos niemand anders nie, die groei van ons letterkunde meegemaak het van die Patriottyd af tot teen 1950, dit wil sê tot in dié tyd wat die Afrikaanse literatuur in ’n snelle groei ’n pragtige hoogtepunt bereik het. (...)

"Totius se invloed is merkbaar in werk van Van Wyk Louw, CM van den Heever en Opperman om maar enkele name te noem. Hierdie skrywers en ander (byvoorbeeld WEG Louw) het dan ook hul waardering vir hom uitgespreek. Totius het die Afrikaanse taal in sy gedigte gevorm, en hy het ’n verskeidenheid digsoorte beoefen. (...)

"Ons moet dit egter onder die oë sien dat Totius se invloed op ’n bepaalde tydstip opgehou het en dat die huidige geslag digters min waardering vir hom het, nie so min as vir Celliers nie, maar baie minder as vir Leipoldt en Marais. (...)

"’n Klein groepie gedigte van hom het inderdaad oorgebly wat stand gehou het en literêr bevredig, maar net so min as wat ons die betekenis van Totius se totale verskyning in die Afrikaanse literêre wêreld kan wegredeneer, net so min kan ons hierdie klein groepie gedigte vandag mis in ons klein literatuur. (...)

“Hy was gedurende ’n sekere tyd van sy digterskap (laat ons sê tot teen die Dertigerjare) ’n baie groter figuur in die Afrikaanse letterkunde as vandag, vir die Afrikaner waarskynlik die grootste van sy geslag, en die betekenis wat hy vir daardie tyd gehad het, verdwyn nog nie met die mindere betekenis wat hy vandag het nie.

"Dit is ook betekenisvol dat van sy eie verse wat literêr gebrekkig is, in ’n nuwe glansender gedaante bly voortleef in later, voortreflike werk, soos ‘Die breekwater’ uit Ragel wat naklink in die passasie ‘o wye en droewe land’ in Van Wyk Louw se Die dieper reg. Totius was baie eng betrokke by sy tyd. Daarin het deels sy krag gelê, deels ook sy beperking. Maar hy het ook vooruitgesien. Die vraag wat hy in Uit donker Afrika vra in ‘Wie sal die land bewaar?’, klink vandag nog – onbeantwoord. (...)

"Totius het ook maar soos Van Wyk Louw in ‘Die beiteltjie’ met ’n klein instrumentjie gewerk, maar iets daarmee gedoen, ter wille van Afrikaans, die Afrikaner en Iets groter as hyself."

Oor Totius as mens het G Dekker en JL de Villiers in Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek (Deel III) meer vertel: "Hy was tingerig gebou, nie sterk van gestel nie, maar verrassend taai. Hy was lief vir die eensaamheid in die natuur, lief vir visvang en ’n gereelde wandelaar. Maar hierdie ingekeerde peinser met die geboë gestalte was ook lief vir geselskap en het in sy nederigheid graag met die eenvoudiges en met jongmense verkeer. Hy het ’n fyn humorsin gehad en daardeur in menige krisismoment die spanning gebreek. Hy was musikaal en het verskillende instrumente bespeel, onder meer die siter. As 'Totius' het hy in toenemende mate geliefd geword by sy volk oor politieke en kerklike grense heen."

Tydens die Aardklop Kunstefees van 2015 is Die rus is elders op die planke gebring. Die bekende akteur Louis van Niekerk is die verteller wat met die hulp van ’n boek wat geprojekteer word, grepe uit Totius se lewe vertel. Sang en musiek deur Olga Leonard, Babette Viljoen en Izelle Claassen van Totius se gedigte bied afwisseling van die beelde en vertellings.

“Totius se ryk gedigteskat het dit maklik gemaak om gedigte daarvoor te kies,” het Babette Viljoen aan Willem de Vries vertel (Die Burger, 21 September 2015). “Gedigte soos ‘O die pyn­gedagte’ en ‘Die Godsbesluit’ handel oor die pyn van verlies – iets waarmee elke liewe mens op aarde te doen kry. Dan het Totius ook oor die liefde geskryf, verlange na die groener gras aan die ander kant van die draad, godsdiens, die soeke na iets groter of beter – alles konsepte wat deel van menswees is. Uiteenlopende gehoorlede sal kan aanklank vind by die ­produksie.”

Vir Olga Leonard staan Totius se vertaling van die Bybel en Psalmberymings uit. “Totius mag dalk vandag as ‘outyds’ bestempel word, maar vir die tyd waarin hy geleef het, was hy vry­den­kend, ietwat rebels en het hy baanbrekerswerk gedoen.”

Babette Viljoen was veral beïndruk deur die besef dat "hy ’n ­gewone mens was, en ’n groot stuk menslike emosies en ­relevante kwessies in sy digkuns vervat het. Ek het ook die idee gekry dat Totius byna sy hele ­lewe aan Bybelvertaling ­gewy het. Daardie deursettingsvermoë en toewyding is vir my merkwaardig.”

In Die rus is elders word sy lewensverhaal vertel, sê sy. “Die verhaal word toegelig met gepaste toonsettings, wat natuurlik ‘Vergewe en vergeet’, ‘Die wêreld is my woning nie’ en ander bekende Totius-werke insluit. Dr Pierre-André Viviers het die teks geskryf en gedigte laat inpas, waarna ek en Olga Leonard die toonsettings gedoen en saam met Izelle Claassen ­verwerk het. Met die musiek probeer ons om Totius se swaar gedigte te omskep in iets mooi wat steeds die emosies vasvang.”

In 2015 was Totius verder in die nuus toe die drukgroep ReformPUK gevra het dat sy beeld voor die hoofgebou van die NWU verwyder moet word omdat hy "apartheid gesteun en uit die Bybel geregverdig het" (Susan Cilliers, Beeld, 22 Oktober 2015). Dit het gelyk asof rassekonflik sou uitbreek toe ’n groep swart ondersteuners van ReformPUK die beeld bestorm en ’n groep hoofsaaklik wit studente dit beskerm het.

Uit Totius se versamelde werke blyk dit dat hy inderdaad ’n beleid van rasseskeiding uit die Bybel regverdig het. Dit is onder meer vervat in ’n referaat wat hy in 1944 op die Volkskongres oor Rassebeleid gelewer het. Dit was getiteld “Die godsdienstige grondslag van ons rassebeleid”.

Rikus Fick, kerkhistorikus aan die NWU, het aan Susan Cilliers gesê dat Totius se opvattings binne konteks gesien moet word. “Dis eerstens gemaak binne die konteks van die tydsgees waarin hy geleef het. Tweedens was dit geensins die hoofmomente van sy besige lewe nie.”

Publikasies 

Publikasie

  • Bij die monument
  • By die monument

Publikasiedatum

  • 1908
  • 1917

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery
  • Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verse van Potgieter's trek

Publikasiedatum

  • 1909
  • 1913

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: Het Westen
  • Potchefstroom: AH Koomans

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wilgerboombogies

Publikasiedatum

  • 1912
  • 1920
  • 1923
  • 1924
  • 1925
  • 1929
  • 1936
  • 1938
  • 1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Het Volksblad
  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Het Westen
  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

  • Rachel
  • Ragel

Publikasiedatum

  • 1913
  • 1923
  • 1928
  • 1932
  • 1934
  • 1950

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery
  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Bloemfontein: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Trekkerswee

Publikasiedatum

  • 1916
  • 192-
  • 1915
  • 1932
  • 1933
  • 1937
  • 1939
  • 1947
  • 1949
  • 1960
  • 1965
  • 1968
  • 1972
  • 1975
  • 1981

ISBN

  • (sb)
  • 0624002845 (hb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Die Weste- Drukkery
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1916

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kinderverse vir huis en skool

Publikasiedatum

1920

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery

Literêre vorm

Kinderverse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Passieblomme

Publikasiedatum

  • 1934
  • 1936
  • 1938
  • 1939
  • 1942
  • 1943
  • 1946
  • 1958
  • 1959
  • 1965
  • 1982
  • 1988

ISBN

  • (sb)
  • 0624018121 (sb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Johannesburg: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1934

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit donker Afrika

Publikasiedatum

1936

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die trek van Boerewaens

Publikasiedatum

1938

ISBN

(sb)

Uitgewer

Potchefstroom: PUK

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skemering

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1949
  • 1953
  • 1963
  • 1973

ISBN

  • (hb)
  • 062400287X (hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Keur uit die gedigte van Totius. Versamel deur CM van den Heever

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vyftig gedigte: ’n keur

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008010 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Versamelde werke: Deel 1 tot 11

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1977

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vier-en-sestig dae te velde: ’n oorlogsdagboek. Saamgestel deur VE d'Assonville

Publikasiedatum

  • 1977
  • 2001

ISBN

  • 0624008843 (hb)
  • 0620279125 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Weltevredenpark: Marnix

Literêre vorm

Anglo-Boereoorlog

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt

Publikasiedatum

1978

ISBN

0624011682 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Versamelde gedigte

Publikasiedatum

1988

ISBN

062402606X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor en deur Totius beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Beyers, CF (red). 1977. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Deel III. Kaapstad: Tafelberg
  • D'Assonville, VE. 1993. Dit is Totius – JD du Toit 1877–1953. Lynnwoodrif: Marnix
  • Van den Heever, CM (samest). 1953. My jeugland: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.  

The post Totius (1877–1953) appeared first on LitNet.

Anoeschka von Meck (1967–)

$
0
0

Gebore en getoë

Anoeschka von Meck is in Maart 1967 in Namibië gebore en die familie kom van 'n plaas in die Mariental-distrik, maar het later Hentiesbaai toe getrek. Anoeschka is die oudste van ses kinders.

Anoeschka se ma en biologiese pa, Vloog Theron, is later geskei en Theron het Suid-Afrika in 1977 verlaat. Anoeschka het hom van tyd tot tyd in die buiteland besoek. Hy het later na Palm Springs in Amerika verhuis.

Haar ma het haar na die baronnes Anoeschka von Meck vernoem. “’n Divine intervention, want hoe’t Ma geweet die naam sou anonimiteit bied van die Vloog Theron-etiket?” (aan Hanlie Retief,  Rapport, 29 Januarie 2011).

Haar ma het geweier om enige onderhoud van Theron te ontvang en van die welsyn ondersteuning gekry: "Maar dan sou my pa vir my ma op ’n dag ’n sportmotor stuur of vir my en my broer vliegkaartjies vir die skoolvakansie Amerika toe sodat ons daar vir hom kan gaan kuier. Dit was bisar – ons het die heeltyd beweeg tussen brandarm en stinkryk."

Anoeschka het 'n deel van haar kinderlewe by haar oupa en ouma, Gustav en Aletta Weich, in McGregor deurgebring – aanvanklik in Oupa se pastorie en toe die Ou Meule. “Ons het aalwyne in die koppies gesoek. Ek onthou Ouma hurkend in die tuin besig om onkruid uit te trek in die kerk in die hoofstraat se tuin. En Oupa se enorme hande wat die pomporreltjie speel” (Finesse, April 1999).

In 2011 (Rapport, 29 Januarie) vertel sy aan Hanlie Retief dat haar jare voor skool by haar grootouers op McGregor vir haar die gelukkigstes was. "Ek onthou my oupa se worteltroshande, hoe ons saans gaan stap het met die platannas wat onder die outydse straatlampe sit en insekte vang. Dan sê my oupa: ‘Kyk, selfs die platannas weet wie die Skepper is; hulle hou biduur.'"

Anoeschka vertel aan Elmari Rautenbach van haar eerste dag in sub A op McGregor (De Kat, Julie 1999): "Die eerste dag [...] het ek honger geword en huis toe gestap na my ouma toe. Daarna het ek vir die res van die jaar verseg om terug te gaan skool toe."

Sy vertel verder aan Rautenbach dat haar ma later weer getroud is, met ’n "wonderlike" man, en drie seuns bygekry het. Een boetie het ’n ongewone geskiedenis wat te doen het met die rol wat toeval in haar lewe speel.

"My stiefpa het my ma ontmoet deur sy werk vir welsyn. Hy's ’n sagmoedige mens en het gereeld kinders huis toe gebring wat op pad was na die weeshuis. Op ’n dag het hy hierdie donkerkop babaseuntjie gebring. Ons het so lief vir hom geword dat hy as pleegkind by ons gebly het. Toe, ná drie jaar, kry ons ’n brief om te sê dat hy permanent aangeneem gaan word. Ons was verpletter, maar hy moes gaan en in dieselfde tyd het my ma-hulle Namibië toe getrek om te gaan boer.

"Jare later het ek by die Herberg-kinderhuis op Robertson begin werk. In die maatskaplike werkster se kantoor was die kinders van die huis se foto's opgeplak. Een het my aandag getrek. Ek het van nader gekyk en yskoud geword. Iets in sy gesig, sy houding het my net laat besef dis hy. Dis my boetie. Toe laat roep ek hom en toe hy voor my staan, vra ek hom baie sag, baie versigtig of hy die mense onthou by wie hy gebly het toe hy klein was. Daar was so ’n stilte. Toe sê hy hy onthou blonde kinders en toe begin ons al twee huil. Hy was al die jare waaragtig in die kinderhuis."

Terug na Anoeschka se jeugjare: Aan die begin van standerd 8 het sy genoeg van skool gehad en werk sy op ’n skip in die Kaapstadse hawe nadat sy die skool gebel en vertel het sy kom nie terug na die vakansie nie. Sy het elke dag met die trein van haar ouma en oupa se huis in Parow hawe toe gery, waar sy soggens sommer saam met die prostitute deurgestap het. Dáár is sy vir drostery en prostitusie aangekla. Die aanklagte is teruggetrek en haar pa het haar voorsien van ’n vliegtuigkaartjie om Amerika toe te gaan.

Sy het vir drie maande by haar pa en sy nuwe gesin gaan bly, maar is gou daar weg om as huishoudster by ’n ouer man in Kalifornië te gaan werk. Daar het sy haar standerd 9 voltooi. “In ’n stadium het ek op ’n universiteitsrekenaar gaan soek na ‘die mees konserwatiewe skool in Amerika’ en afgekom op die Lynchburg Christian Academy in Virginia.

“Ek het nog altyd belanggestel in godsdiens – my oupa was immers ’n NG predikant. En Virginia was toe waar ek my matriek gemaak het,” vertel sy aan Elmari Rautenbach (De Kat, Jullie 1999). “Maar daardie plek het gemaak dat ek finaal my rug gedraai het op Christelikheid soos ek dit toe geken het, en in die okkulte ingegaan het. Ek wou ’n okkulte skrywer word.”

Anoeschka het nog altyd, vandat sy kan onthou, geskryf. En hoewel sy nie altyd stories geskryf het nie, het sy dagboeke geskryf. “Sommer oor allerhande goed. Ek het ’n hele trommel vol dagboeke by die huis, maar ek draai dit met draad toe sodat my broers nie daarin kan krap en lees nie,” vertel sy aan Terésa Coetzee (Rooi Rose, 18 Augustus 1999).

Verdere studie en werk

Anoeschka was in Amerika op universiteit, en op 23 kon sy nie meer behoorlik Afrikaans praat nie. Haar pa “dare” haar toe om na die Universiteit Stellenbosch te gaan. “Ek het opgedaag by eksamens sonder om ’n klas by te woon. En elke keer het ek my notas weggegooi omdat ek heilig oortuig was dat ek sou deurkom. En toe dop ek Afrikaans in my eerste jaar!”

Sy het as eerstejaarstudent met 'n prokureur getrou, ook omdat iemand haar ge-“dare” het. “Ons is getroud: een reëndag voor ’n stokou Paarlse landdros. En met dié dat ons nie een enige ringe het nie, skud ek toe maar blad met die man. Ek en my vriendinne het hom nog weggesteek in ons studente-huis wat net vir dames was."

Sy en die man is toe geskei, nadat albei besef het die huwelik gaan nie uitwerk nie. "Maar nou ja, al was ek regtig lief vir hom, was hy een van daai tipe mans wat huislenings aangaan en kinders het. Nie dat ek nie wil kinders hê nie," sê sy aan Elmari Rautenbach. "By die kinderhuis het hulle my mak gemaak. Ek wil hulle net nie baar nie. Ná drie jaar is ons geskei nes ons getroud is: elkeen het die helfte betaal."

Sy verwerf op Stellenbosch ’n meestersgraad cum laude in Egiptologie, terwyl sy saans stapels borde was en okkultiese slagspreuke in hiërogliewe skryf. Haar stokperdjies is godsdiens, antieke kulture en tale.

In 1994 trek sy vir die eerste keer as skrywer die aandag toe ’n kortverhaal van haar, “Bokse met druiwe en drome”, opgeneem word in LyfSpel, ’n bundel erotiese kortverhale wat deur Rachelle Greeff saamgestel is.

Vanaf 1995 het sy vir drie jaar kinders opgepas in die kinderhuis op Robertson, waar sy huismoeder was van 11 seuns. Dit was egter vir haar baie traumaties, want sy was, soos almal wat by 'n kinderhuis werk, aan die diep kant ingegooi. “Ek het nie ’n vae benul gehad hoe om teenoor hierdie stukkende en dikwels woedende en rebelse kinders op te tree nie,” vertel sy aan Schalk van Wyk in Kerkbode (25 Junie 2004). “Die eerste paar maande was vir my nag, want daardie kinders is horrible. Maar ek het leer bid, al was my gebede meestal in die trant van: Here, heeelp! Jesus, wat sou Ú doen???"

Schalk van Wyk skryf oor Anoeschka: "Dat ons lewe deur God as ’n reis, ’n ontdekkingstog, bedoel is, is ’n stukkie van Von Meck se geloofsbelydenis." Sy vertel self verder: “Die kinders is by uitstek besig met ’n journey. Hulle het hierdie sterk drang om te ontdek. Dit is hoekom ons dink hulle is stout. Maar hulle moet alles ondersoek, dis in hulle. Daarom moet grootmense verstaan as hulle dwelms gebruik en met goed eksperimenteer. Maar ons moet húlle help om te verstaan hoe God se reis met hulle lewe loop. En dit loop verder as die vinnige trip wat dwelms gee."

Von Meck se eerste roman, Annerkant die longdrop, word in 1998 by Queillerie uitgegee. Sy het hierdie boek binne drie weke voltooi. Dit was in 1997 een van die vyf finaliste in De Kat en Sanlam se romanwedstryd en is spesiaal vermeld. Sy het dit ingeskryf onder die titel Skreeu tot jy lag. As Annerkant die longdrop was dit ook ’n finalis vir 1999 se M-Net-Boekprys.

Sy sê aan Johan van Zyl (Die Burger, 17 Desember 1998) dat sy die gevoel gehad het, nog voordat ’n enkele woord op papier was, dat die boek gepubliseer gaan word. “Ek het nie ’n idee gehad waaroor ek gaan skryf nie, geen struktuur nie, en ek dink nie ek het by die storielyn uitgekom nie.”

Annerkant die longdrop vertel die verhaal van Ginkelsnoek wat, soos Hestertjie Haarnaald, reis deur landskappe vol karakters met name soos Oom Boekevat, Ouma Slapiesnou, Oom Pervertus en Die Sluiper. Daar is ook drie selwe: SyWatDink, SyWatDroom en SyWatDoen.

Oor die gunstige ontvangs wat die boek gekry het, sê sy verder aan Johan van Zyl: “Niemand het die boek tot dusver diep ontleed nie. Daar is ’n klomp goeters weggesteek ... drie vlakke waarvan die diepste een totaal geestelik is. Ek skryf elke dag briewe aan God. Diep, huh? En ek lees nie fiksie nie, want dan vergelyk ’n mens jou werk met dié van ander – ’n intimiderende ervaring. Ek lees eerder kaarte, atlasse en reisjoernale.”

Die eerste vlak van die boek handel oor drie susters en hulle lief en leed. Lesers wat die tweede vlak ooplees, sal besef dat hulle te doen het met karakters wat besig is om deur onverwerkte traumas te werk. En die derde vlak is die soeke en die reis na God. Die boek is ook grootliks die produk van Von Meck se eie soeke.

"Vir my is skryf ’n private, egotistiese en spirituele oefening. My boek het ’n punt gesit agter die einde van ’n deel van my lewe, en as ek terugdink, besef ek hoe ek jare lank ’n keuse gemaak het om met New Age-filosofieë en okkulte deurmekaar te wees. Maar na ’n mistieke ervaring in 1994 het ek tot bekering gekom. Ek weet nou alles is in God se handpalms gegraveer.”

Sy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 3 Augustus 1999) dat sy een nag ’n visioen gehad het. En dat dit uit die gesprek wat sy as nie-Christen met die Man gehad het, duidelik was dat dit Jesus was. “Terwyl ek met Hom gesels het, het ek ’n onbeskryflike liefde ervaar. Ek het besef dat ek alles vir Hom sal gee.

"Dit was ’n lang en moeilike pad om my lewe aan Christus te wy. Net soos die karakters in Longdrop met onder meer losbandigheid en dwelmgebruik worstel, het ek dieselfde dinge ervaar. Uiteindelik lei die reis deur die drie susters van die boek – wat onderskeidelik die lyflike, die verstand en die gees simboliseer – tog na die Oppergesag."

In haar boek beskryf sy die reis van ’n dwelmverslaafde: “Ek wou self met 'n klomp dinge eksperimenteer en met Longdrop het ek ook probeer verwys na die lang val, die skeiding tussen normale mense en ander mense. En dis self ook ’n probleem wat ek het, ek is ’n alleenloper. Ek kyk altyd hoe ander mense lewe. Die grootste verleidings in my lewe is seks en drugs, maar groter as dit is my liefde vir Jesus.”

Jaybee Roux skryf in Beeld (1 Maart 2010) dat die verteller in Annerkant die longdrop haarself Ginkelsnoek noem, soms Sprankelsnoek of SyWatDink. "Sy deel ’n ongure studentehuis in Stellenbosch met haar susters, SyWatDoen en SyWatDroom. Drie uiteenlopende jong vroue, maar so vervleg dat dit nie altyd duidelik is waar die een eindig en die ander begin nie. Ginkelsnoek is lief vir reis. Na eksotiese, Derdewêreldse bestemmings waar sy interessante, soms grillerige goed saam met die armes en agterlikes beleef. Sy dink dikwels aan haar grootwordjare in die ‘woestyn’, aan ander interessanthede uit die verlede. Die susters is jonk, maar het al heelwat beleef.”

Roux het die boek aanvanklik vervelig gevind, met onsamehangende herinneringe en vertellings. “Maar woord vir woord kruip dié boek onder jou vel in. Word jy geboei en meegesleur. Besef jy dáár is soveel aan die gebeur, soveel konflik en roeringe en energie, ’n bruisende mengeldrankie waarin elke denkbare emosie skuimend opgeklits is. Veral humor, soms subtiel en soms banaal; soms glimlag en soms skater jy. Maar die humor is soos ’n laag ys waaronder ’n diep, donker droefheid lê (...)

Annerkant die longdrop is een van daardie stories wat jou laat voel jy het nie werklik gelewe totdat jy dit ervaar het nie, wat jou behoorlik wakker skud. Ek het laas so gevoel met die lees van The alchemist, wat deur ’n sielkundige as psigoterapie ‘voorgeskryf’ is.”

Vir Lucas Malan (Rapport,17 Januarie 1999) is Annerkant die longdrop ’n roman wat nie sommer in jou klere kom sit nie, hy kom kruip baie dieper in as dit. “Maar dan moet jy nie sommer net op jou rug wil lê en lees nie, want sy laat haar nie so ruglangs maklik lees nie. Miskien moet ek dit anders sê: die lees is heerlik, want hierdie debuutroman is net nie so maklik nie. Nogtans, as jy my vra, sê ek jou dis ’n Afrikaanse boek wat nog opslae gaan maak.

“Von Meck doen net mooi alles wat die skryfkunsteorie sê jy moenie doen nie: sy tell, sy show nie; die plot sal ek moeilik agterna vir jou kan teken, en die teken van karakter lyk op die oog af verdag; tyd en ruimte loop hulle eie gang. Maar dit werk, teorie of te not! Die lees word dan vir my juis spel tussen verteller en leser, en nes jy dink jy het die verteller uitgevang, dan sien jy verleë jy’s die een wat uitgevang is.”

André P Brink skryf in Insig (November 1998): “Trek jou asem diep in, hou jou oë wyd oop, en duik dan in. Dis ’n heerlike, mal, deurmekaar, omgeëlliede boek dié. (...) Ons letterkunde het dit goed getref met vroueskrywers, lof en dank; maar met dit en al het niks ons heeltemal voorberei op ’n verskynsel soos hierdie roman nie. (...) Dit kom jy gou agter die oomblik as jy probeer saamvat waaroor dit gaan. Want hier is geen sout of water aan op te som nie. In die hart van die onnutsige – én diepsinnige – maalkolk is daar drie susters, in ’n studentewoning op Stellenbosch. Ginkelsnoek heet die een wat meestal in fokus is. Sy deel die grootste kamer met ’n paddavis en haar jongste sus, net bekend as SyWatDoen (’n doenigheid wat meestal mans insluit terwyl sy ‘’n effense BA’ doen); bo op die solder bly middelsus, SyWatDroom, ’n ‘boekhoer’ wat darem ook prakties genoeg is om loodgietery te beoefen, en wat mettertyd voel ‘soos een wat deur ’n baalgooier gesluk en uitgespoeg is.’ (...)

“Liewe leser, vat hierdie roman en lees en lees en lees; grinnik, skater; en moenie skaam wees om nou en dan die odd traan weg te pink nie. Dis ’n donnerse mooi boek.”

Herman Wasserman (Die Burger, 23 Desember 1998) beskryf Annerkant die longdrop as ’n skerpsinnige debuut met ’n besonder eiesoortige blik op die wêreld. “Al sou dit met ’n effense inkorting of dissipline ’n duidelike fokus kon hê, vang dit veral die tydsgees van die twenty- en thirtysomethings vas. Of miskien eerder: laat dit vry om te dwarrel en te dwaal waar dit wil.”

Vir Rachelle Greeff (Volksblad, 21 Desember 1998) spoel Annerkant die longdrop jou saam soos ’n witwaterrivier: eers in, kan jy nie maklik uit nie. “Die teks, van een kort sin (dikwels staccato) tot die volgende, rol voort van blerrie eienaardig tot so bekend soos jou eie naaktheid, van digterlik tot onbewoë koel. Haar karakters bevolk jou kop nes ’n kerkbasaar. Von Meck skryf ’n stuk bedompigheid wawyd oop."

Ander opinies is dat Longdrop spreek omdat dit ’n eerlike boek is. Dit is ook ’n boek met humor, ’n boek wat teen ’n dolle vaart sy eie loop kry. Dit slaan ’n eiesinnige koers in en is ’n moet vir elkeen wat ’n boek met pitkos soek. Dit is ’n wonderlike boek, volgens Vrydag.

Von Meck se opregtheid verbaas en skok ’n mens byna, skryf Terésa Coetzee (Rooi Rose, 18 Augustus 1999). Sy vertel vrolik van haar enigste bewonderaar waarvan sy weet. “Ek het ’n regte fan! Dis ’n meisie wat Honneurs in Afrikaans-Nederlands doen en sy’t al vir my blomme en ’n bottel rooiwyn gebring. Ek was tegelykertyd skaam, stom en verleë en al wat ek die heeltyd dink is ‘Og, maar sy’t ’n mooi vel’, terwyl sy ewe intellektueel oor my boek wil praat.”

Gedurende 2000 vertoef Von Meck vir ’n wyle in Bloemfontein. Sy vertel aan Adri Herbert (Volksblad, 1 Desember 2000): “Ek het met my travel pillowlaptop en ’n sak hier aangekom en ek stap waar ek wil wees.” Sy bly in ’n studentehuis. Sy moes Namibië, waar sy die vorige twee jaar gebly het, weens visumvoorwaardes verlaat. Aanvanklik sou sy net ’n paar weke in die Vrystaatse hoofstad bly, maar sy het ’n pos by ’n weekblad aanvaar.

Von Meck se volgende boek, Vaselinetjie, word in 2004 deur Tafelberg uitgegee. En ook dié een is ’n sukses. In 2009 het ’n Engelse vertaling deur Elsa Silke verskyn. Sy het Vaselinetjie ingeskryf vir ’n jeugboekwedstryd.

Vaselinetjie het in 2005 drie belangrike literêre pryse verower: die Rapport/Jan Rabie-prys vir vars, nuwe stemme in Afrikaans, die MER-prys vir Jeuglektuur en die M-Net-prys vir ’n Afrikaanse teks in kort formaat. Ook die ATKV-Kinderboekprys vir graad 8–10 is (in 2006) aan die roman toegeken.

Vaselinetjie is gegrond op Von Meck se ervarings as versorger in die kinderhuis waar sy gewerk het, en volgens die beoordelaars bring dit “’n wêreld onder woorde wat aan min mense bekend is”. Die beoordelaars vir die MER-prys het só verslag gedoen: “Met Vaselinetjie keer sy (Anoeschka) met haar eeue oue oog terug met ’n roman wat op die jeugdige leser (onder meer!) ingestel is. Daar word die karakter, Vaselinetjie, van haar onskuldige oorspronge, deur haar hartverskeurende deurgangsrites in ’n kinderhuis en tot by die wêreldwyse ‘Vaseline’ met ’n oortuigingskrag uitgebeeld wat dit vir enige jeugleser eienbaar sal maak.”

Nadat sy gehoor het van al die pryse wat sy gewen het, het Anoeschka aan Mariana Malan (Die Burger, 7 Junie 2005) gesê dat sy oorweldig was en in ’n toestand van skok. “Maar ek weet hoekom ek die pryse gewen het. Dis omdat my ma op die plaas doer op die vlakte vir my sit en bid.” Oor die prysgeld was sy baie bly en het gevoel dat haar ma maar ’n lysie moet maak van alles wat sy wil hê en dat die Here vir haar sal sê wat sy met die res moet doen.

Sy voel dat die boek nodig was sodat sy ’n tydperk van haar lewe kon afsluit. “Dit was ’n katarsis vir my, en ek kon dit beheer deur dit ’n gelukkige einde te gee. Dit was vir myself nodig om my gedagtes en herinnering in ’n veilige kapsule te sit. Dis ongelukkig so dat dit nie werklik altyd goed gaan met kinders nadat hulle die kinderhuis verlaat nie.”

Von Meck vertel aan Annemarie Marais (Insig, Julie 2002) dat hierdie verhaal, anders as Annerkant die longdrop, ’n begin, ’n middel en ’n einde het, hoewel die grense tussen werklikheid en verbeelding ook in hierdie vertelling aan die vae kant is. “Die storie is waar, die karakters fiktief.” Of is dit andersom?

Volgens Louise Steyn, wat destyds by Tafelberg ’n uitgewer was, is dit ’n merkwaardige jeugverhaal en sal dit jammer wees as jongmense dit nie lees nie.

Die meeste karakters in Vaselinetjie is gebaseer op regte mense, en die verhale op regte gebeure, al is die name en tekening van persone genoeg verander om hulle te beskerm. Die model vir een van die hoofkarakters, Texan, is ’n ware suksesverhaal. Hy het werklik hoofseun geword en op Stellenbosch gaan studeer en het as boekhouer in Londen gaan werk.

Willemien Brümmer (Die Burger, 12 Junie 2004) skryf in haar resensie: "Die boek vertel die verhaal van Helena Bosman, maar haar ouma en oupa noem haar sommer Vaselinetjie, want toe sy klein was, het haar vel so droog uitgeslaan dat sy die hele tyd gekerm het vir ’n bietjie Vaseline. Op skool noem hulle haar egter ’n 'twiegevriet' wat altyd lieg – omdat sy soos ’n bruin mens praat, maar ’n ligte vel het. Die gevolg is dat sy op die Welsyn se aanbeveling weggestuur word na ’n kinderhuis in Gauteng.

"In die kinderhuis moet Vaselinetjie hoor sy’s ’n 'weggooikind' wat niemand wil hê nie. Sy behoort aan Madiba en moet in sy weeshuis bly 'sodat jy nie begin gom snuif en hoer op straat as die foreign investors van oorsee kom kyk hoe ons land lyk nie'. Gou word sy iemand heeltemal anders as die Vaselinetjie wat haar ouma en oupa geken het. Sy leer vloek en baklei en sy loop asof sy haar aan almal afvee. Langs die pad maak sy darem ook kosbare vriende soos 'Puck' en 'Killer'. Haar lewe bereik ’n keerpunt wanneer sy met Texan Kirby kys na ’n noue ontkoming met ’n groep Kaapse bendelede. Uiteindelik is sý die sterk een wanneer dit kom by aanvaar waar jy vandaan kom."

Brümmer (Die Burger, 12 Junie 2004) gaan voort: "Vaselinetjie is tegelyk ’n huil-mooi liefdesverhaal en ’n roman oor grootword in ’n kinderhuis – ’n omgewing waaroor tot dusver net gefluister is. Dit is ook ’n verhaal oor selfaanvaarding. Soos in haar debuutroman, Annerkant die longdrop, skryf Von Meck oor ’n omgewing wat sy deur en deur kén. Sy kén die jargon van die kinderhuis, asook sy hartseer en eiesoortige bekoring.

“Maar dié keer het sy selfs ’n stappie verder gegaan. Die skrywer erken self die leser het 

hier te make met ‘faksie’. (...) Die boek se storie is fiktief, maar heelwat van die gebeurtenisse is dinge wat régtig plaasgevind het. Al is Von Meck se jongste roman op tieners gemik, spring dit nie vir ’n oomblik haar aweregse sin vir humor vry nie. (...)

“Die toon van die roman is soms intens liries (soos wanneer gepraat word van die kinders met die ‘fluistersiekte’ wat die spook abba). Maar al is geleenthede vir clichés volop, kry Von Meck dit keer op keer reg om ’n ding ráák te sê (vloekwoorde en al) sonder om soetsappig te wees. Van die beskrywings – soos van ’n amper-verkragting of die hel van kinderprostitusie – is skreiend, en Von Meck deins nie ’n oomblik terug van die bloederige werklikheid nie. Soos in haar debuutroman is die karakters dikwels onkonvensioneel, maar jy leer hulle gou ken soos ’n broer of suster.

“Sonder om afbreuk aan die misterie van die verhaal te doen, word daar nie soos in haar eerste roman heen en weer gespring, gedroom en gewonder nie. Dit is ’n storie wat jy kan onthou en oorvertel, en wat vir lank nog met jou sal bly gesels voordat jy snags jou oë toemaak.”

Fanie Olivier (Beeld, 24 Januarie 2005) meen: "Baie van die potensiële verhoudingspannings word nie uitgebou nie en sekere belangrike episodes word simplisties aangebied. Die werklike krisis rondom seksualiteit kom nooit ordentlik ter sprake nie en veral in hierdie opsig is daar ’n oppervlakkigheid in die werk waaroor skrywer én uitgewer ongemaklik behoort te voel. Dieselfde soort oppervlakkigheid tref ’n mens aan in die wyse waarop die taalgebruik van die karakters voorgestel word, en die onsekerheid van die idioom waarin die verteller aan die woord is.

“Daar is ongemotiveerde spronge, en die wyse waarop die hele matriekjaar binne een afdeling en die bestek van ’n paar bladsye afgehandel word, is sonder enige regverdiging, en volgens my ’n belediging vir die leser. Met die lees is daar hier en daar oomblikke wat ’n mens aangryp, maar as die novelle sy ‘bestaan’ wil regverdig (en uitgegee word) as gevolg daarvan dat dit op die skryfster se ‘werklike ondervinding as versorger by ’n kinderhuis’ gegrond is, is daar rede om bekommerd te wees. Ook tieners verdien om as lesers – ook, en juis in Afrikaans – met meer respek behandel te word.”

Jaco Jacobs (Volksblad, 13 September 2004) skryf dat Vaselinetjie wat toonaard en inhoud betref, heelwat verskil van Longdrop. “Vaselinetjie is moeilik kategoriseerbaar. Dit is wel ’n tienerroman soos die uitgewers dit bemark, maar dit is ’n boek wat volwasse lesers dalk meer sal geniet. Danksy die skrywer se ondervinding as oppasser in ’n kinderhuis, word die kinderhuisomgewing baie realisties uitgebeeld – en dit is nie altyd ’n mooi prentjie nie. Die taalgebruik is meestal oortuigend, die beskrywings grinterig en soms skokkend en Vaselinetjie se naïewe belewenis van die dinge om haar laat jou hart soms ineenkrimp.

“Von Meck gee by meer as een geleentheid toe aan die verleiding van sentiment en moralisasie. Dit is jammer, want die krag van die teks lê juis in die hartverskeurend onbetrokke manier waarop van die karakters oor hulle eie lot kan vertel. (...) Soms mis ’n mens die humoristiese manier van kyk wat die skrywer se debuutroman gekenmerk het. Vaselinetjie sou myns insiens baat vind by ’n bietjie snywerk – veral die gedeelte waar Vaselinetjie en Texan moet vlug van die bendes kom te uitgesponne en uit pas met die res van die verhaal voor. Maar Vaselinetjie is op die ou end ’n lekkerleesboek (iets wat deesdae ietwat van ’n rariteit in Afrikaans is), ’n storie wat bewys hoeveel krag daar soms in die swakste mense skuil, en een wat jou oë oopmaak vir ’n wêreld wat min mense ken.”

Na haar drie jaar by die kinderhuis op Robertson het Von Meck onder meer ook as ’n vrywilliger in ’n tehuis vir gestremdes in Bloemfontein gewerk en ’n paar ander draaie gemaak voordat sy in Namibië beland en ’n draaiboek geskryf het. Met hierdie draaiboek het sy die Namibiese deel van M-Net se New Directions gewen en daarmee saam ’n slypskool van tien dae in Zanzibar: “Dié tien dae het ek die eiland deurgewaggel: hierdie vet, blonde vrou wat skares plaaslike mense gelok het wanneer sy in die see swem.”

In 2001 was sy ’n verslaggewer in Windhoek by Die Republikein. “Ek kan nie glo ek doen dit nou eers nie, om by ’n koerant te werk.” Tog het dit nie toe gelyk asof sy haar wortels in die woestynsand gaan laat skiet nie.

In 2004 maak sy 'n Saldanha-kantoor vir Swartland & Weskus Herald oop en woon in Paternoster. Sy word bevorder tot subredakteur. In September word sy genooi om ’n foto te gaan neem by die Louwville-gemeenskapsentrum in Vredenburg by ’n betaalpunt waar staatstoelaes en -pensioene uitbetaal is. Terwyl sy daar gewag het, het sy gesien watter verskriklike dinge by sulke uitbetalings met die pensioentrekkers gebeur. Van hulle word deur bendes en skollies van hulle geld beroof en baie van hulle is die prooi van geldskieters. Von Meck het foto’s geneem en sy is toe rondgestamp, op die grond gegooi en gewurg. Haar kamera is van haar afgeneem en die film is verwyder.

In 2005 is sy aangestel as ’n senior verslaggewer by Rapport in Kaapstad. In 2007 het sy hierdie loopbaan vaarwel toegeroep en ’n ruk lank in Calvinia se Boekehuis gaan woon nadat sy besluit het om weer vir ’n slag dinge te doen wat vrede gee. Dit sluit in op grondpaaie ry, op klipkranse bid en in plaasdamme swem. Sy het ook vir die tweede keer haar eie rubriek vir die vrouetydskrif Finesse gehad.

In 2008 begin sy by Hoërskool Calvinia skoolhou, vir twee jaar, hoewel sy self nie kan spel nie. Sy maak haar eie leerplan op wat onder meer Ingrid Jonker se sekslewe insluit, en Zuma se politieke agenda, en af periodes waar die kinders “ek-moer-jou” buite in die veld speel. 

Hugo Taljaard het Vaselinetjie in 2010 tot ’n verhoogteks verwerk en dit is op die Suidoosterfees in Kaapstad en by die KKNK op die planke gebring met Henry Mylne van 7de Laan-faam as regisseur. Mylne het aan Mariana Malan (Beeld, 12 Januarie 2010) gesê dat dit nie ’n tienerdrama is nie, maar ’n drama met ’n rolverdeling wat hoofsaaklik uit tieners bestaan. Hy het hierdie feit by herhaling beklemtoon: “Ek het die jong akteurs van die begin af gewaarsku dat ek hulle soos professionele akteurs gaan hanteer. Ek het hulle gewaarsku dat ek ’n slawedrywer is en net met die beste tevrede sou wees. Hulle het entoesiasties gereageer, maar nie geweet waarvoor hulle hul inlaat nie. (...)

“Ten spyte daarvan dat sommige van hulle dit as ’n voorgeskrewe werk gehad het, het hulle glad nie die subteks verstaan nie. Ons moes saam die wêreld van geweld, seks, kru taal en werklik ernstige emosionele verwaarlosing oopbreek. (...) Die trane het al geloop tydens repetisies. Dan sê ek maar net vir hulle niemand kan ’n akteur wees sonder dat jy ten minste een keer in trane uitgebars het nie. Dan sê ek ook vir hulle dat ek so moeg is dat ek nie meer kan loop nie, maar dat hulle my in die eerste keer in twee jaar laat voel of ek werklik weer lewe.”

Mylne het bygevoeg dat die boek vir hom ’n wêreld oopgemaak het en dat hulle saam met Von Meck selfs ’n paar dele wat uit die boek gesny is, na die boek teruggebring het. “Ja, die inhoud mag skok, maar elke karakter op daardie verhoog bestaan werklik. Dis nie ’n sprokie nie. Die skokkende elemente word met humor, musiek en dans in jukstaposisie geplaas.”

Von Meck se gunsteling-wegbreekplek is by die Beach Camp in die Tietiesbaai-reservaat naby Paternoster aan die Weskus. Daar word sy wakker met die see vlak voor haar tone en dit is iets baie besonders. “Die tente is op semi-permanente houtstrukture gebou met bed en matras ... lieflik! Soms hoor ’n mens die eienaardigste ‘harde asemhaling’ asof die seekoning, Poseidon, sooibrand het. Eers wanneer jy lank genoeg stil op ’n rots sit en dophou, sal jy miskien agterkom dis ’n walvis wat rustig dut en nou en dan hard proes. En blomtyd roep dit wit velde uit vir mense tjênd om op jouse rug te lê en net God’s grootheid in KLEUR te ervaar” (Sarie, September 2005).

Anoeschka kan nie skryf as die plek om haar deurmekaar en/of vuil is nie. Nie ’n portretraampie mag ’n millimeter skeef hang nie. Sy was jare lank ’n gedissiplineerde mediteerder en daarna het sy weer geleer om intensief te bid. “Bid en skryf voel vir my dikwels dieselfde, want die meeste van my skryfwerk oor die jare is private gesprekke tussen my en die Here” (Sarie, November 2005).

In 2010 verhuis sy na Leisure Isle en begin by die Knysna-Plett Herald as verslaggeefster werk. Haar boek oor die lewe van die bekende vrugte-eter Essie Honiball, Die ontwaking, sien die lig.

Essie Honiball het Anoeschka se lewe finaal kom omdop. “Daai tannie het ’n snap gesnap wat min mense kon doen. Sy lewe wat sy glo.”

Om die boek te kon skryf moes sy haar in die lyf van ­Essie Honiball plaas, vertel sy aan Hanlie Retief (Rapport, 23 Januarie 2011). “Tannie Essie het in ’n sta­dium 31 kg geweeg; so nou moet jy jou indink hoe dié grote lyf van my in daardie maer enetjie moes pas!”

Daar het ’n ánder ontwaking op Anoeschka gewag. ’n Deel daarvan gaan oor sterrekundige begrippe, oor die 13de-eeuse wiskundige Fibonacci se getalkodes, oor hoe ’n skulpie se fyn spiraal die universele spiraal eggo.

Karen Ebersohn het na die bekendstelling van Die ontwaking in Volksblad (11 November 2010) geskryf: “Honiball (86) en Von Meck (43) het oor die trane, vreugde en onlosmaaklike lewenslesse van hul lewe vertel wat in Von Meck se boek ingeweef is. En hoe dié twee aan mekaar se menswees geskaaf het.”

“’n Mens se lewe en ’n storieboek is nie dieselfde ding nie. Maar al die lewensdinge beïnvloed ’n mens se lewe,” sê Von Meck aan Ebersohn.

Dit het bygedra tot hoe sy die boek aanpak. “Ek moes tannie Essie word met die skryf van die boek. Dit was nie maklik nie. Dit was beslis die moeilikste skryfwerk wat ek nog aangewend het; ek weet nie of ek weer so ’n projek sal kan aanpak nie.”

Von Meck het ’n strandhuis gehuur met die skryf van die boek en het daagliks deur honderde stukke papierwerk oor Honiball se lewe gewerk. “Ek het met tye die Here buite in my tuin gaan smeek om my te help om die boek te skryf. Dan het ek ’n kussing oor my kop vasgemaak sodat daar stilte kan wees. Soms het ek dan met die kussing om my kop gebind af strand toe gerol sodat daar energie in my liggaam kan kom.”

Sy sê die boek het in haar eie lewe genesing gebring. “Ek weet hoe groot God is en my kop is gesond. Dit is ondanks groot hartseer, spanning en ’n eetsteurnis in my lewe.”

Honiball sê toe sy die boek oor haar lewe lees, het sy met tye gehuil. “Anoeschka het oor goed geskryf wat ek lankal vergeet het.”

Anoeschka was in Mei 2014 een van die finaliste in die kategorie "Hard news" vir die MDDA-Sanlam Plaaslike Media-toekennings vir 2013.

In November 2014 het Rooi Rose berig dat ’n rolprent van Vaselinetjie gemaak sou word. Boonop sou ’n tweede toneelstuk van die boek binnekort op die planke wees. Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale, het dié aankondiging by die bekendstelling van die Nasionale Toneelspelkompetisie 2015 in Kaapstad gemaak. Die fliek se regie sal deur Corné van Rooyen behartig word.

Boonop is altesaam 12 leerders wat aan die 2014-toneelkompetisie deelgeneem het, gekies om saam met vier beroepsakteurs in die tweede verhoogproduksie van Vaselinetjie op te tree. Shirley Ellis behartig die regie. Die stuk debuteer in 2015 by die Woordfees in Stellenbosch en sal daarna ook by Kunstekaap opgevoer word. kykNET, RSG en die Woordfees ondersteun hierdie projek.

Vaselinetjie, in 2004 uitgegee, is tans in Wes-Kaapse skole voorgeskryf.

Oor die nuus dat Vaselinetjie ’n film gaan word, het Anoeschka as volg gereageer: "Ek is ‘deeply humbled’ en kan nie glo wat gebeur het nie. Ek het Vaselinetjie in 2000 op ’n geleende skootrekenaar geskryf toe ek ‘down en out’ was en nie ’n werk gehad het nie” (Republikein, 28 November 2014).

As deel van hul program om teater onder die jeug te ontwikkel en te bevorder, bied Kunstekaap in 2015 weer vier voorgeskrewe werke op die verhoog aan. Twee van hierdie werke is in Afrikaans en die kaartjieverkope is bo verwagting goed met net enkele plekke wat nog beskikbaar is.

Vaselinetjie, gebaseer op die boek (wat vir graad 11-leerders voorgeskryf is), is in April opgevoer. Shirley Ellis behartig die regie en bekende name soos Andrea Stresso, June van Merch, Cedwyn Joel en Dawid Louw speel die hoofrolle. Leerders wat verlede jaar in die Hoërskool-dramakompetisie uitgeblink het, is in die ander rolle te sien.

Vaselinetjie is aangebied in samewerking met Dagbreek Trust, die US Woordfees, die Nasionale Kunsteraad (National Arts Council), Hoërskool Bellville en die ATKV.

Wat ander mense oor Anoeschka sê

Minette Brink, ’n voormalige kollega: "’n Enigma wat nooit wortelskiet nie, maklik haar goed kan pak en aanbeweeg na ’n volgende plek toe, land, avontuur. Wat soggens en saans die honde langs die pad na haar huis toe polonie gevoer het, gestap het waar sy wou wees en nooit bang was vir die donker nie. Die enigste mens wat ek ken wat onvoorwaardelik lief is vir die mensdom. Met al sy geite." (http://peterjasie.co.za/minette_anoeschka.html)

Tom Dreyer en Jaco Botha: "’n Uitbundige blonde, ’n weird kettle of fish, ’n girl wat daarvan hou om dinge op haar eie manier te doen. Gut wat skrik vir niks." (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Annerkant die longdrop

Publikasiedatum

  • 1998
  • 2009

ISBN

  • 1874901961 (sb)
  • 9780624048114 (sb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vaselinetjie

Publikasiedatum

2004

ISBN

0624039811 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

  • Rapport/Jan Rabie-prys 2004
  • MER-prys vir Jeugliteratuur 2004
  • M-Net-prys vir ’n Afrikaanse teks in kort formaat 2005
  • ATKV-Kinderboekprys graad 8–10

Vertalings

Engels vertaal deur Elsa Silke 2009

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ontwaking: ’n verhaal gebaseer op die lewe van Essie Honiball

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780981440835 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Benedic Boeke

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Anoeschka von Meck beskikbaar op die internet

Artikels deur Anoeschka von Meck beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.  

The post Anoeschka von Meck (1967–) appeared first on LitNet.

Rudie van Rensburg (1951–)

$
0
0
rudievanrensburg280
Foto: Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein in die Vrystaat gebore. Hy is die oudste van twee seuns – sy broer Carl is deesdae ’n prokureur in Bloemfontein. Sy pa, MC (Basie), en sy ma, Christa, is albei in die Vrystaatse platteland gebore. Sy pa, wat oorlede is toe Rudie 19 jaar oud was, was van beroep in die politiek en was vanaf 33-jarige ouderdom ’n Volksraadslid. Hy het later minister van pos- en telegraafwese geword en was 50 toe hy oorlede is. Sy ma het kinders grootgemaak en was huisvrou. Sy is ten tye van die skryf van hierdie stuk 92 jaar oud.

Rudie was maar twee jaar oud toe sy pa tot die Volksraad verkies is en hy het, totdat hy in standerd 5 (graad 7) op skool was, ses maande in Kaapstad en ses maande in Bloemfontein skoolgegaan. In Kaapstad was hy in die laerskole Akasiapark en Jan van Riebeeck en in Bloemfontein in Willem Postma-laerskool. Hy het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer.

Rudie het in ’n huis met boeke grootgeword en het sy liefde vir boeke en lees by albei sy ouers gekry. Sy pa het ’n baie groot boekversameling gehad, vertel Rudie aan LitNet: "Ek het gereeld as seun saam met hom in veral die destydse string ou boekwinkeltjies in Langstraat, Kaapstad rondgesnuffel. ’n Groot deel van sy boekversameling is aan die destydse Instituut vir Eietydse Geskiedenis van die Vrystaatse Universiteit geskenk.

"My ma was haar lewe lank ’n ywerige leser, wat vandag nog haar oggendkoerant van hoek tot kant deurlees en 'nie sonder ’n boek bed toe kan gaan nie'. Ek het dus van kleintyd af tussen boeke en lesers grootgeword. My pa het gereeld uit Langenhoven se werke vir my voorgelees, met Brolloks en Bittergal my gunsteling-karakters.

"Soos enige ywerige leser van my tyd het ek my leestande geslyp op Trompie, Jasper, die Uile en Fritz Deelman. Op hoërskool het ek Ian Fleming se Bond-boeke verslind.

"Later op universiteit het ek alles gelees waarop ek my hande kon lê - van Etienne Leroux tot Alistair Maclean. Leroux is steeds my gunsteling-skrywer van alle tye en ek lees minstens elke dekade al sy boeke deur."

Verdere studie en werk

Ná skool is Rudie na die (destyds genoemde) Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal sy BA (HOD) met die vaste voorneme om ’n onderwyser te word. Maar dit was ongeveer die tyd van die Watergate-skandaal in Amerika en nadat hy die rolprent All the president's men (wat gebaseer was op die skandaal en die joernaliste van die Washington Post wat die skandaal ondersoek het) gesien het, het hy besluit om van loopbaankeuse te verander. Hy het dus, ná hy sy onderwysdiploma behaal het, ’n joernalis by  Volksblad geword. Hy het ook sy BA-graad in kommunikasiekunde deeltyds aan die UV behaal en het later sy honneursgraad in dieselfde rigting aan Unisa verwerf. "So, ’n fliek was letterlik die enigste rede waarom ek ’n joernalis geword het – iets waarvoor ek die vervaardigers van All the president's men ewig dankbaar voor is," vertel Rudie aan LitNet.

In 1982 is Rudie een van die stigters, asook uitgewer, van die eerste gratis weeklikse koerant in die Vrystaat, Bloemnuus, en later is hy ook redakteur van Die Ekonoom, ’n landwye saketydskrif.

Ná tien jaar in die koerantwese as joernalis verlaat hy die beroep om by die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo te gaan werk. Oor sy tyd in die joernalistiek skryf Rudie aan LitNet: "My tien jaar in die joernalistiek was seker die vervullendste jare van my lewe. Die Volksblad (waar ek amper ses jaar gewerk het) het my skryfliefde laat posvat en my ook ’n sterk skryfdissipline gegee. Destyds was dit ’n middagkoerant – jy het seweuur begin en was teen tweeuur/drieuur klaar met jou dagtaak op kantoor. Vandag is dit as voltydse skrywer steeds my 'kantoorure'.

"Die band wat ek met my kollegas daar gesluit het, was vir my baie kosbaar. Ons is tans ’n dosynstuks oudjoernaliste van Die Volksblad wat in die Kaap woon en kom minstens kwartaalliks bymekaar om te kuier. My koerantkollegas was nie net skeppende mense nie (onder andere later gepubliseerde skrywers soos Chris Karsten, Deon Meyer, Chris Moolman, Johan van Wyk en Hennie van Deventer), maar ook nuusmanne van formaat (soos onder andere Tom Ferreira, Mike van Rooyen en ’n string ander). Almal het in ’n mindere of meerdere mate ’n invloed op my joernalistieke loopbaan gehad, wat later ook neerslag in my skrywersloopbaan gevind het. Vir die grootste deel van my tyd was ek in die sportredaksie. Sport was maar altyd een van my groot belangstellingsvelde."

Rudie het aan Marana Brand van Hulsteyn (Die Burger, 21 Augustus 2013) vertel dat hy ’n joernalis sou gebly het as hy sy lewe kon oorhê, "as dit ’n beter betalende beroep was. Geen ander werk kom daarby nie, maar die voordele van die korporatiewe omgewing was net te aanloklik vir my. Iets wat ek nie sou gedoen het as ek my lewe oor kon kry nie. Sou maar as koerantman afgetree het."

Rudie is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke. Toe hy sy vrou in Bloemfontein ontmoet het, het sy by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum gewerk. Ná hulle troue het sy die rol van ma en huisvrou vervul en vandag werk sy by ’n speelskool in Welgemoed.

In 1987 verhuis Rudie en sy gesin na Kaapstad, waar hy by Sanlam begin werk. In die 20 jaar wat hy daar werk, is hy onder andere senior  bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.

Rudie vertel dat sy tyd by Sanlam, veral by die reklameafdeling, "weer ’n andersoortige skeppende grondslag gelê het waaruit ek later jare ook as skrywer kon put. In my tyd in die finansiëledienstebedryf het ek gereeld onder skuilname rubrieke vir verskeie plaaslike koerante en interne maatskappypublikasies geskryf, wat my darem nog soos ’n 'semi-joernalis' laat voel het."

In 2007 het Rudie ’n reuseskildery wat misdaad in Suid-Afrika uitbeeld, geskilder en het hy beplan om dit aan die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Charles Nqakula, te skenk. Rudie het aan Marita Meyer (Die Burger, 7 Maart 2007) meer oor die doel van hierdie skildery vertel: "In die apartheidsjare het versetkuns ’n belangrike rol gespeel om die onregte teen die mensdom in die kollig te plaas. Die tyd is nou ryp dat visuele kunstenaars saamstaan en hulle weer verset – dié keer teen misdaad. Hierdie skildery is my beskeie bydrae tot die kreet teen veral geweldsmisdaad.

"Ek wil hê die skildery moet Nqakula gereeld daaraan herinner dat Suid-Afrika onder ’n vlaag van misdaad en geweld deurloop. Dit sal moeilik vir Nqakula wees om die skildery, getiteld Cry of the Rainbow Nation te ignoreer – dit is ’n allemintige 1,7 meter hoog en 3,3 meter wyd. Ondanks die onlangse teenmisdaadplanne wat die regering aangekondig het, is dit duidelik dat die dringendheid nog ontbreek om die vlaag van misdaad hok te slaan. Die onaanvaarbare vlak van geweldsmisdaad in die land regverdig onmiddellike en drastiese optrede van die regering. Dit is onaanvaarbaar om in vrees en bewing in jou eie land te leef."

Die misdaadskildery is ’n ruk lank by die Bellville-biblioteek se galery uitgestal, maar die Minister se kantoor het toe vir Rudie laat weet dat hy nie die skildery in ontvangs wil neem nie, maar dat hy kennis neem van sy bekommernis oor misdaad.

Rudie tree in 2009 uit die "formele werksomgewing" en het hom aanvanklik voltyds op sy skilderwerk toegespits. Hy skilder al vir byna 30 jaar en het aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika deel gehad. Sy werke is opgeneem in versamelings, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Oor sy skilderwerk het Rudie aan Marita Meyer van die Kaapse streekkoerant TygerBurger (7 Julie 2010) vertel dat hy self sy kuns sou beskryf as "’n mengsel van fantasie, pret en eenvoud. Ek druk my uit deur die distorsie van lyn en kleur in my werk. Ek is beslis nie ’n realistiese kunstenaar nie en raak soms aan die kubisme en ekspressionisme. Ek skilder nie van prente of natuurtonele af nie, maar gee die beelde in my kop weer.

"Ek eksperimenteer ook graag met verskillende style, tegnieke en teksture. Kuns is vir my baie meer as die blote duplisering van die werklikheid. Daarvoor kan jy net sowel ’n kamera inspan. Dit moet iets van jou innerlike weergee. Die doel van my kuns is om ’n bepaalde vorm te bereik wat nie noodwendig elegant is nie, maar ’n innerlike impuls bevredig. Mense moet my kuns interessant vind, ook prettig of selfs vreemd, maar net nie alledaags nie."

Toe begin hy skryf aan sy eerste manuskrip, wat later Slagyster sou word, en vandat die manuskrip aanvaar is, kry hy amper nie meer tyd om te skilder nie.

Hy is ook die afgelope ses jaar Maandae en Dinsdae as Afrikaanse taalversorger by die TygerBurger werksaam.

Rudie se eerste tree op die skrywerspad is in 2008 gegee toe hy ’n toneelstuk, Die begrafnis, onder die skuilnaam Phil Janse geskryf het. Hierdie stuk was redelik suksesvol en is by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater met Rudie as die beste dramaturg en die stuk as die beste drama. Dit is in boekvorm by Genugtig! Uitgewers gepubliseer.

Oor hoekom hy nog net die een drama geskryf het, verduidelik Rudie aan LitNet: "Ek beskou myself  nie as hierdie wonderlike dramaturg nie – kan nou nog eintlik nie die sukses van Die begrafnis glo nie. Ek het dit so vinnig afgerammel en het geen hoop gehad dat dit ooit op die planke sal kom nie. Dit was sommer ’n op-die-ingewing-van-die-oomblik-ding. Het gewonder hoe ’n mens die lyk van ’n baie gesette ou uit die huis gaan kry as die deure en vensters te klein is, en toe het die toneelstuk spontaan 'gebeur' - het presies een naweek daaraan geskryf. Dalk sal ek in die toekoms weer so ’n bevlieging kry."

Sy tweede tree op die skrywerspad was ’n kinderboek onder die titel Die Doempies van Tafelberg, wat hy self uitgegee het. Hy het vir sy kinders, en ook wanneer daar maatjies kom oorslaap het, slaaptydstories vertel oor die Doempies, klein mensies wat op Tafelberg woon. Dit was sy vrou se voorstel dat hy dit in ’n boekie moet laat verskyn. Hy het toe self die boekie geïllustreer en uitgegee. Dit is onder speel-, kleuter- en laerskole in die Wes-Kaap verkoop, "maar ek voorsien nie dat ek weer my hand aan kinderboeke sal waag nie. My verhaalfonteintjie het opgedroog by die Doempies."

Rudie vertel aan Jonathan Amid op LitNet dat hy maar eintlik nog altyd ’n "closet-skrywer" was. En selfs toe hy die bydraes vir ander publikasies geskryf het, het hy geweet dat hy nog eendag ’n boek gaan skryf. Omdat hy self baie daarvan hou om misdaadfiksie te lees, was dit amper half logies dat hy sy hand aan daardie genre sou waag.

Hy verduidelik verder aan Amid: "Ek ken ook my beperkings en sou beslis nie probeer het om ’n hoge letterkundige werk te pleeg nie, ondanks die feit dat ek ook nie genoeg kan kry van Etienne Leroux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se boeke nie. Ek bewonder hulle, maar sal hulle beslis nie probeer nadoen nie."

Rudie het reeds as student in die 1970's begin om misdaadfiksie te lees. Alistair Maclean was een van die skrywers wie se boeke hy verslind het. Daarna was Frederick Forsyth, Ed McBain, David Morrell, Dick Francis en later Wilbur Smith logiese leeskeuses, maar, sê hy aan Amid, hy dink nie dat enigeen van hierdie skrywers werklik ’n invloed op sy latere skryfwerk gehad het nie: "Die genre as sodanig was my dryfveer."

En toe tref Slagyster die Afrikaanse misdaadfiksietoneel met Kassie Kasselman as die inspekteur. Die ontvangs van hierdie nuwe skrywer se debuut was baie positief, wat vir Rudie ’n riem onder die hart was. Hy verduidelik aan Amid: "As jy die soveelste keer jou eie skryfsels tydens die manuskripfase lees, begin jy naderhand erg twyfel of die ding goed genoeg is. En as jy die finale proewe afteken, is jy doodseker dit gaan die flop van die jaar wees! Die positiewe terugvoer was dus vir my wonderlik. Ek dink nie lesers besef hoeveel dit vir ’n skrywer beteken om te hoor hulle het sy boek geniet nie. Dit helder jou dag absoluut op. Ek waardeer werklik elke kompliment van elke mens. Al die komplimente was beslis ewe lekker."

Oor sy skepping Kassie Kasselman wat die hoofkarakter is, vertel Rudie aan Amid dat hy nie, soos in so baie ander speurverhale, ’n machoheld as speurder wou hê nie: "Dit is maar hoe die nerd-agtige Kassie Kasselman gebore is. Ek het groot pret gehad om lyf aan sy karakter te gee. En hy is ’n tipe antiheld wat onderskat word. Juis daarom bied hy vir my ander moontlikhede as wat ’n skrywer met ’n konvensionele held sou hê."

Vir Slagyster moes Rudie intensiewe navorsing doen, aangesien die verhaal in Afrika (en nie net in Suid-Afrika nie) afspeel. Rudie vertel aan Elmari Rautenbach in Die Burger van 21 Maart 2014 dat hy nooit self die olievelde in Nigerië, waar geweld hoogty vier, besoek het nie, dus moes hy baie navorsing doen. Uiteindelik het net ongeveer 5% van die navorsing in die boek neerslag gevind, "maar die breër agtergrond het my gehelp om geloofwaardig oor die omstandighede te skryf. In die gyselaarsdrama het ek myself net in die skoene van die gyselaar geplaas en hom laat reageer soos ek sou gedoen het. Navorsing help my om ander moontlikhede raak te sien en verskaf soms onverwags ’n saadjie vir ’n nuwe wending in my verhaal."

Riette Rust skryf in haar resensie (Beeld, 2 September 2013) dat Kassie, die speurder met die rooi windjekker, klere wat ongestryk lyk en hare wat met Brylcreem gekam is, in Slagyster agter die kap van die byl van drie gebeure moet kom: Ryan Deetlefs, ’n ingenieur vir ’n oliemaatskappy, word in die Nigerdelta gevange gehou; Carl Bester, ’n polisiemol, moet van Afrika se mees gewetenlose skurke gaan aandurf as hy sy werk wil behou; en die  vennote van die vervoermaatskappy Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Kaapstad, wat reeds skatryk is, verryk hulle verder deur wapentransaksies, waarby hoë amptenare van die SAPD en die Nigeriese sluikhandel betrokke is.

Rust sluit haar bespreking as volg af: "Die roman lewer sosiale kommentaar op die soeke na welvaart en die effek daarvan op verhoudings. Die einde verras, maar is ’n naskrif oor wat van die karakters  word, nodig? ’n Opvolgroman sou dié antwoorde kon gee. Van inspekteur Kassie Kasselman wil ek beslis weer hoor!"

Op LitNet skryf Deborah Steinmair dat die "misdaadriller" teen ’n "stywe pas galop". Tonele wissel mekaar gereeld af, die karakters se persoonlikhede is uiteenlopend, daar is oorgenoeg passie en baie binnegoed en bloed wat spat. "In pas met die eise van die genre spring die taalgebruik nie na vore nie: dis dienlik, oortuigend, onopvallend soos ’n voetganger sonder reflektors. Na my smaak is daar soms net ’n bietjie te veel verduideliking (...). Maar die spanning verkry dodelike momentum en die dikkerige boek word min of meer in een sessie verslind. Hierdie wiewassit word hoog aanbeveel vir onversadigbare misdaadvrate. En hopelik steek die vasbyter-filatelis Kassie Kasselman in nog heelparty opvolgboeke kop uit."

Slagyster was op die kortlys van drie vir 2013/2014 se Jan Rabie-Rapport-prys vir fiksie, asook een van die drie finaliste vir die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur.

In 2014 verskyn Rudie se volgende misdaadriller, Kolskoot, en verdryf hy die "tweede-boek-spook" totaal, want weer eens is dit ’n "fassinerende, naatlose riller wat geruisloos verskeie stemme, karakters en wêrelde bymekaarbring", soos Jonathan Amid in ’n onderhoud met Rudie op LitNet dit noem.

Vir Rudie was een van die dinge wat hom met die skryf van Kolskoot groot genot verskaf het, om Kassie weer as sy hoofkarakter te hê. Kassie se base in die SAPD onderskat hierdie keer sy speurvermoëns. Rudie verduidelik aan Amid dat dit vir hom soms voel of "Kassie homself skryf" en dat ook hy dalk vir Kassie onderskat.

Van die verskille by die skryf van Kolskoot teenoor Slagyster wasdat dit nie vir hom nodig was om soveel navorsing te doen vir die tweede boek nie, omdat hy die wêrelde waaroor hy in Kopskoot skryf, baie goed ken. "Ek het persoonlike ervaring as vertrekpunt geneem om oor die kunste, die maatskappy-omgewing, joernalistiek en die grens te skryf. Ek het ook navorsing gebruik wat ek deur die jare oor verskeie onderwerpe versamel het vir artikels in publikasies. Ek het besluit om hierdie bekende omgewings en gegewens in ’n sinvolle verhaal te vervleg. My inligting oor onder meer reeksmoordenaars het ek by ’n gewese polisieman gekry wat destyds by die Moord en Roof-eenheid in Johannesburg gewerk het. Die skryfproses was, wat dit betref, dus makliker, hoewel die storielyne net soveel dinkwerk as Slagyster geverg het."

In Kopskoot is Kassie ook nie so apologeties soos in Slagyster nie. Volgens Rudie het hy vir seker ’n sterker wil van sy eie. "In Kopskoot bevraagteken hy soms ook sy eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk en sy eie oordeel. Hy is ook nie daaraan gewoond dat sy saak oorgegee word aan iemand anders nie – veral omdat hy nie daarmee kan vorder nie. Boonop is sy gesondheidskwellinge ’n groot struikelblok in dié stresvolle tye. Om die Kassie-karakter interessant te hou, sal hy vorentoe met nog vreemde situasies gekonfronteer word, wat weer ander karaktertrekke sal openbaar."

Kassie se ondersoeke in Kopskoot is heelwat anders as in Slagyster. Hierdie keer loop daar oënskynlik ’n reeksmoordenaar los in Kaapstad wat middeljarige mans voor die voet vermoor en sy "werkswyse" is met elke moord dieselfde. Maar Kassie is nie oortuig dat dit wel die werk van ’n reeksmoordenaar is nie. Dan is daar ook nog ’n vervalsing van ’n skildery, ’n sakeman wat ’n voorliefde het vir prostitute en ’n afpersery.

Toe Kassie se aanvanklike ondersoek nie veel oplewer nie, word majoor Wim Jonker uit Johannesburg "ingevoer" om die sake op te los. Dit geval Kassie glad nie en hy en Jonker se ondersoekmetodes is ook totaal verskillend. Dit alles, tesame met sy nuwe gesondheidsdieet, lei tot konflik tussen die twee speurders.

In Rapport van 11 Mei 2014 skryf Deborah Steinmair: "Daar is heelwat bloed en sweterige seks. Daar is ook ’n ander, veel ouer verhaal wat tussen die bladsye ontvou: Die voorval in die verlede waaroor ’n groepie mans ’n bloedeed van swye gesweer het. (...) ’n Fassinerende newetema is dié van kunsvervalsing. (...)

"Die skrywer vervleg met gemak perspektiewe. Die leser bevind haar soms in die kop van die moordenaar en sien deur sy kil oë hoe die loodpunt die vel tussen die slagoffer se wenkbroue breek en die skedelbeen met ’n dowwe kraakgeluid deurklief, hoe die bloedsproei ’n rooi spikkelpatroon teen die wit muur maak. (...)

"Dit is asof hierdie naelbyt-misdaadriller homself lees, sommer in die loop van ’n enkele nag. Die taalgebruik is soepel en ekonomies, sonder ’n sweem van mooiskrywery, en die pas is flink.  Die dialoog oortuig klinkklaar. Van Rensburg het ’n gemaklike greep op humor en ironie. Die leser vlieg veilig, in bekwame hande. (...)

"Netjies, naatloos en onvermydelik ontmoet die storielyne uiteindelik. Daar is ’n verlossende skeppie metafisika: Intuïsie en toeval speel ’n beduidende rol, soos in die regte lewe. Oor die beste ontdekkings struikel ’n mens terloops. Kopskoot is ’n koningsmaal vir misdaadvrate."

Naomi Meyer van LitNet het met Rudie gesels oor sy derde Kassie Kasselman-boek, Judaskus. Hy vertel aan haar dat hy gewoonlik sy inspirasie kry deur redelik wyd te lees oor ’n verskeidenheid onderwerpe en omgewings. Een van sy gewoontes is om sy daaglikse koerant deur te lees en dan die interessantste berigte en artikels uit te knip en te liasseer. Wat eintlik die impetus agter die skryf van Judaskus was, was die groot groei in georganiseerde misdaad in Suid-Afrika, en wat hom veral opgeval het, is die aktiwiteite van die groot sindikate.

Kassie slaan in Judaskus ’n heel ander pad in as in die eerste twee verhale – hierdie keer raak Kassie, wat glad nie gesien kan word as die tradisionele romantiese held nie, smoorverlief op sy aantreklike nuwe buurvrou. "Dit was ’n splinternuwe kinkel wat ek nie voorsien het toe ek aan die manuskrip begin skryf het nie!" vertel Rudie aan Meyer. "Maar stories het soms mos die gewoonte om soos ’n wilde perd hul eie rigting in te slaan. En dan moet die skrywer maar vasklou en saamgalop."

In Judaskus probeer Kassie agter ’n reeks moorde kom wat daarop dui dat die Orde, wat ’n tipe Boeremafia is, al vir langer as vyftig jaar oor die hele land heen ’n hand het aan etlike baie goedbeplande misdade, asook aan dwelmsmokkelary.

Daar is ook die baas en intellektuele leier van hierdie Orde wat as Iskariot bekend staan. In sy instruksies aan sy onderdane haal hierdie leier aan uit die werke van intellektuele en denkers soos Adam Small, Langenhoven en François-René de Chateaubriand, asook uit Ruy Lopéz de Segura, ’n Spanjaard wat ’n skaakmeester is: "God duld selfs die swakste speler. Maar nie vir lank nie."

Die leser is al van redelik vroeg in die boek bewus van die identiteit van hierdie aartsskelm, skryf Schalk Schoombee (Die Burger, 30 Mei 2015), maar “’n groot deel van die leesplesier (behels) juis om die gewetenlose superskurk se strategie te ontrafel.

"Uit die staanspoor word die spanningslyne styf getrek; in elke hoofstuk word verskeie verhaallyne geweef en karakterperspektiewe van die misdadigers (TJ en die hakkelende Snake) en die speurders in snelle sarsies afgewissel. Die roman wil nie ’n whodunit wees nie – daarvoor word die motiewe van die meesterbrein te gou blootgelê. Die tergende vraag vir die leser is eerder: Hoe gaan al die booswigte vasgetrek word? Wie gaan wie uitoorlê? (...)

"Die soen van verraad duik oral op – in Isakriot se giftige afskeidsgroet aan medewerkers en vyande, in Anna se sagte soene wat mans laat smelt, in diepgewortelde haat vir volksverraaiers wat oor generasies strek.

"Die taal is manlik: hardebaard, gestroop, sonder nonsens. In die sappige spreekwyse van sy karakters, van bergies wat deur rommel grawe tot allerlei randfigure, het Van Rensburg ’n vaartbelynde draaiboek geskryf wat smeek om verfilm te word."

In Rapport (31 Mei 2015) beskryf Deborah Steinmair Judaskus as "Grinterig, gelaai en snaarstyf gespan - ’n meesterlik geweefde leeservaring”, terwyl Jaco Fouché (LitNet) praat van Judaskus as ’n boek wat "rondloop", met die leser wat "herwaarts en derwaarts vervoer" word.

"Nie net tussen plekke soos Bloemfontein, diverse buurte in die Kaapse Skiereiland, Sasolburg en Hermanus nie, maar ook tussen die hedendaagse tydgreep en verskeie invloede uit die verlede wat opklink. Ou moorde kom weer ter sprake, en veel ouer ideologieë wanneer die Ossewa-Brandwag bygehaal word. Voeg daarby ’n verskeidenheid karakters van wie ’n hele paar skurke is wat skurk genoeg is om ’n mens onrustig oor jou medemens te maak, en dis ’n boek wat genot aan liefhebbers van die genre sal verskaf."

Oor die redelik baie karakters in veral Judaskus verduidelik Rudie aan Naomi Meyer op LitNet dat sy werk in daardie opsig anders as tradisionele speurromans is. Daar is die hoofspeurder gewoonlik dwarsdeur die storie die sentrale karakter, terwyl hy wat Rudie is, van baie karakters in sy romans hou. "Dis vir my byvoorbeeld belangrik om ook in die koppe van die misdadigers te kom en hulle stories te vertel. Dit pla my nie om in (digbevolkte) boeke wat ek lees, terug te blaai om myself weer te vergewis van wie ’n spesifieke karakter nou eintlik is nie. Nie alle lesers voel egter dieselfde daaroor nie. Om ’n goeie balans te handhaaf het ek uiteindelik ’n hele paar randkarakters in die oorspronklike manuskrip (van Judaskus) gesny, wat toe nogal dinkwerk vereis het om die verhaalvloei nie te versteur nie."

Rudie se roman Pirana is pas (Mei 2016) bekendgestel en weer moet Kassie bontstaan om ‘n saak op te los. Die uitgewers skryf as volg oor Pirana: "Wanneer Kassie Kasselman die saak van ’n vermiste oudkollega begin ondersoek, is dit duidelik hier skuil meer as net ’n dwelmverwante verdwyning. Hoe lyk dit dan vir Kassie of dit verband hou met die twee ander sake – ’n ontvoering en ’n moord – op sy lessenaar? Van die Kaapse ganglands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonsde Bolandse hoewe met ’n grieselrige visdam en die glans-en-skanswêreld van die diplomasie moet Kassie sy pad voel-voel vind – of Rooi Els se vrou is visvoer."

Almal stem saam dat Rudie se boeke lekker lees. Op ’n vraag van Naomi Meyer sê hy dat hy nog nooit bedoel het om letterkundige werk te lewer nie, maar net om gewone stories te skryf. "En ek skryf bloot soos ek in my vroeë loopbaan as joernalis leer skryf het, waar die leser darem nie woordeboeke nodig het om te ontsyfer wat ek neerpen nie. Sedert my koerantdae in die laat sewentigs en vroeë tagtigs het ek eintlik nooit ophou skryf nie."

Jonathan Amid wou van Rudie weet hoe hy op sy "pakkende eenwoord-titels" besluit. Vir Rudie was Slagyster ’n maklike titel om te kies. Kopskoot as titel was ietwat moeiliker. "Die verhaal het eers twee ander titels gehad, maar dit was te na aan titels van bestaande boeke uit die verlede. Ek het letterlik deur ’n Woordelys en spelreëls geworstel om Kopskoot raak te skiet. En met Judaskus was die titel ook al klaar daar voordat die boek heeltemal persklaar was."

Publikasies

Publikasie

Die begrafnis (onder die skuilnaam Phil Janse)

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780980275438 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Genugtig! Uitgewers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Sanlamprys vir Afrikaanse teater (beste dramaturg)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Doempies van Tafelberg

Publikasiedatum

2009

ISBN

 

Uitgewer

Kaapstad: Rudie van Rensburg

Literêre vorm

Kleuterboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Slagyster

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780795800627 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kopskoot

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780795800771 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Judaskus

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780795800924 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Pirana

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780795801099 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Misdaadroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Rudie van Rensburg beskikbaar op die internet

Artikels deur Rudie van Rensburg beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Rudie van Rensburg (1951–) appeared first on LitNet.

Johann P Boshoff (1956–2016)

$
0
0

Gebore en getoë

Johann P Boshoff is op 7 Februarie 1956 op Jan Kempdorp in die Noord-Kaap gebore – die jongste van twee kinders. Sy suster, Anso, is 16 maande ouer as hy.

Johann se pa was Jacobus Petrus (Kobus/Kosie) Boshoff (1929), een van agt kinders gebore op ’n plaas tussen Fauresmith en Philippolis. As gevolg van die droogte en depressie van die 1930’s het Johann se oupa, Hansie, die plaas verlaat en het hulle hulle in Bloemfontein gevestig waar sy oupa opsigter van albei Sentraal-skole was. Ná 1947 was sy pa feitlik sy lewe lank verbonde aan die destydse Departement van Naturellesake, later Bantoe-administrasie. Met sy dood op 3 Julie 1965 was hy lokasiesuperintendent op Keetmanshoop, SWA (Namibië). Johann het gesê dat respek vir ander se menswees sy pa se blywendste nalatenskap is. “Ons was byvoorbeeld verbied om die K- en M-woorde vir swart mans en vroue te gebruik. Ousie (ou suster) en Outa (ou pa) is toegelaat.”

Johann se ma was Isabella (Aisa/Isa) Frederika Dreyer (gebore in 1931) van die Vaalharts-besproeiingskema, en een van 13 kinders. Aisa en Kobus het mekaar as penvriende ontmoet en is in 1954 getroud.

Ná sy pa se dood is sy ma in 1969 met Pierre Smit getroud en het Johann en Anso ’n broer, Rikus, en ’n suster, Annalene, ryker geword. Rikus het in 1995 selfmoord gepleeg en Johann het Bloot (1998), sy eerste digbundel, aan hom opgedra.

Johann se ma is in September 1993 oorlede. Johann onthou sy ma as ’n “lieflike, gasvrye en intelligente mens met ’n buitengewone vermoë om onvoorwaardelik lief te hê.” Hy onthou veral haar slag met kinders. Sy sou toe hulle klein was byvoorbeeld vir hulle ’n kosmandjie pak sodat hulle op die sitkamermat van hulle skakelhuis in Louisastraat in Doornfontein kon gaan “piekniek hou”. Later jare het sy vrywillig die tuinbou-afdeling van die bekende Elizabeth Conradie-skool in Kimberley se Landsdiens behartig en voor haar dood gehelp met die Kinderkrans van die NGK Voortrekkerhoogte.

In die laat 1950’s het die Boshoff-gesin, ná ’n paar omswerwinge, in Doornfontein, Johannesburg, beland, waar hulle eers in ’n woonstel en later in Louisastraat gebly het. Johann het alreeds met sy eerste verjaardag die bynaam Bullets gehad (volgens ’n ou telegram).

In 1964, toe Johann agt jaar oud was, het alles verander. Johann en Anso het van Doornfontein af Yeoville toe gestap om by hulle Pietersen-nefies te gaan kuier. Toe hulle naby Yeoville oor die straat wou stap, het ’n Volkswagen-kewer met ’n vrou in kraam op hulle afgejaag gekom. Johann het voor Anso ingespring en die motor het hom getref. Anso se een arm is gebreek, terwyl Johann vir 11 dae in ’n koma was met erge harsingskudding. Sy ma het gedurende hierdie tyd dag en nag by sy bed gewaak terwyl sy Psalm 121 oor en oor aan hom voorgelees het. Die woorde van dié Psalm is al wat hy nog vandag kan onthou as hy aan daardie tyd dink.

Johann het sy skooljare aan twee laerskole deurgebring: eers die Joubertparkse Laerskool in Johannesburg, tot 1965, toe die gesin in sy standerd 2-jaar (nou graad 4) na Bloemfontein verhuis het, en toe die Volkskool Kruitberg (Noordskool). Hy is toe na die Hoërskool Sentraal. Iemand vir wie Johann op ’n afstand op hoërskool bewonder en geïdealiseer het, was Marius Daniël Vermaak, oftewel “Marius D Vermaak”, wat twee jaar ouer as hy was. Dit is waar sy “P” in “Johann P Boshoff” vandaan kom, nie van André P Brink nie, sê hy. Hy het in 1973 gematrikuleer.

Johann onthou dat daar altyd boeke in hulle huis was, al sedert hulle Johannesburg-dae, toe hulle elke week boeke by die rondreisende biblioteek uitgeneem het. In Bloemfontein was dit meestal romanses en soortgelyke boekklubboeke wat hy gelees het. Hier teen standerd 7 (graad 9) het hy egter sy lus daarvoor begin verloor, waarna hy oorgeslaan het na ernstiger fiksie en niefiksie.

Twee plekke is vir Johann baie belangrik: Pretoria, omrede sy jare en dus veral sy ondersteuningsnetwerk daar, en Bloemfontein, wat hy beskou as “die hart en eensame kern” waarheen hy telkens terugkeer. Hy het hom in 2004 vir ’n ruk op Rosendal in die Oos-Vrystaat gevestig. In 2010 was hy ’n ruk lank op Loxton in die Bo-Karoo.

By die skryf hiervan is Johann in Pretoria, ná wat hy aanvanklik in die openbaar “’n soort rehabilitasie” genoem het. Hy is op 28 Julie 2014 ’n vonnis van vyf jaar opgelê, met korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet, ná ’n uitgerekte strafsaak wat met sy inhegtenisname op 22 Junie 2012 begin het. Sy gevangenisstraf was dus 10 maande. Die res dien hy tans op parool (huisarres) uit.

Sy enigste invloedryke sielsgenoot sedert 1976 is Max James Greenblatt (1944–).

Verdere studie en werk

Ná skool is Johann weermag toe om sy militêre diensplig te verrig. “Ek het die militêre-diensplig-tyd verfoei en, as pasifis, geweier om te leer om mense dood te maak, is oorgeplaas Mediese Korps toe en daar het ek my ontslag ná my eerste selfmoordpoging gekry. In dié tyd het ek ook aktief in die gay-lewe betrokke geraak.”

Daarna het Johann ’n bietjie rondgeval, onder meer in ’n bank gewerk, op die spoorweë en in ’n farmakologielaboratorium. In 1976 begin hy met ’n BSc aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, nou UV, maar skop in Mei van dieselfde jaar op en vertrek na Pretoria, waar hy by Van Schaik’s werk en daar op twintigjarige ouderdom vir Max ontmoet.

In 1977 was hy aan Truk verbonde, danksy sy vriendskap met Christo Gerlach, vir wie hy reeds in 1973 op ’n kunswedstryd ontmoet het. Hy was eers werksaam as assistentverhoogbestuurder vir die toerproduksie Die reënmaker, en toe as vryskutakteur in die laerskoletoerproduksie Safari Lub-dub. Dit was tydens laasgenoemde ervaring dat Johann besluit het om wel Afrikaans te gaan studeer.

Hy het in 1978 met sy BA begin terwyl hy en Max aan die Wes-Rand buite Krugersdorp gewoon het. Hy het elke dag per trein en bus na die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg) gereis. In sy tweede jaar het hy Afrikaans-Nederlands IIB gedruip en moes hy ’n jaar herhaal om weer by AFN IIB uit te kom. “Ek het só geskrik dat ek tóé eers begin presteer het. Ek handel my BA in 1981 met Engels as ander hoofvak af en in 1982 my honneurs in Afrikaans-Nederlands.”

Johann was in 1975 die wenner van ’n Tastic/Weiner-beurs spesifiek vir studie aan die Universiteit van Port Elizabeth (nou NMMU), maar hy het dit nie gebruik nie. In 1982 is die Seba Cuyler-prestigebeurs vir nagraadse studie in die geesteswetenskappe aan die Randse Afrikaanse Universiteit aan hom toegeken.

Reeds in sy honneursjaar het hy as groepklasleier deeltyds by Turret Correspondence College in Johannesburg gewerk, waar hy vanaf 1984 tot 1989 al die studiegidse vir Afrikaans geskryf het en die nasionale vakkoördineerder vir Afrikaans (tweede taal) was in die Teachers’ Upgrading Programme onder leiding van Sheila Sisulu.

Johann vertel dat sy werk as taalpraktisyn in die Bloemfontein-steunbasis van die SANW in 2001 seker die “goorste” was wat hy ooit gedoen het. Die heerlikste werk op sy persoonlike mensweesvlak was die ses-en-‘n-half-jaar wat hy Afrikaans-onderwyser aan die Michael Mount Waldorf School in Bryanston was. Die bevredigendste, en enigste, plek waar Johann met kollegas langtermynvriendskappe gesluit het, was in sy vele jare as taalpraktisyn verbonde aan die Departement Kuns en Kultuur in Pretoria se Nasionale Taaldiens. Hy was ook vir bepaalde tydperke senior subredakteur vir Volksblad en vir Sake24. Met sy “aftrede” aan die einde van 2012 was hy as taalpraktisyn verbonde aan Unisa se taalkantoor.

Johann se skryfaktiwiteite het reeds in 1971 begin toe hy in standerd 8 was, en sedertdien werk hy met taal en woorde. Hy het in 1985 in Standpunte 176 as digter met drie verse gedebuteer, onder andere saam met MC Botha en Bernard Odendaal.

Hy het sy eerste digbundel, Bloot, self in 1998 gepubliseer. In ’n resensie in Volksblad skryf Bernard Odendaal dat die bundel deurspek is van hoofsaaklik alliteratiewe klank- en woordspel. Ook dat dit plek-plek na tipografiese effekte streef en dat veral die eerste helfte van die bundel sterk op mitologiese en Bybelse verwysings steun. Dit maak dus nogal ’n eksperimentele indruk. Soms word met die eksperimente interessante effekte verkry, maar dit doen meestal verstandelik aan. Hoewel die taalspel ongeslaagdhede oplewer, is daar tog ook gedigte wat treffend uitstaan, soos die innige eenvoud van “Dankgebed”, asook die twee liedere (met meegaande toonsettings én uitnodigings aan lesers!) wat meer as net die verstand boei.

Die kort slotgedig is in al 11 amptelike tale van Suid-Afrika, asook in Frans en Duits, deur Johann se eertydse kollegas by die Nasionale Taaldiens vertaal. In die bekendstellingsbrief word dit as iets unieks aangekondig.

Oor die feit dat Johann sy skeppende werk self publiseer, in teenstelling met sy Christelike boeke, wat deur Aktuapers uitgegee is, sê Johann in antwoord op ’n vraag van LitNet: “Keurders van veral groot uitgewerye se vernaamdoenery en dikwels venynige God-spelery oor skrywers van literêre werk en hul loopbane het my dermate begin irriteer dat ek besluit het om self te publiseer.

“Die uitsondering was Petra (Müller) Grütter se brief-en-keurder-verslag van 1987. Grütter het in haar brief onder meer soos volg geskryf: ‘Hierdie keurdersverslag som ook ons redaksie se gevoel op. Maar ons wil tog vir u sê dat ons by die herlees weer onder die indruk gekom het daarvan dat u beslis ’n digter is, en dat ons u graag sou wou aanmoedig om die kritiek te verwerk en voort te gaan met u digwerk.’ Dié trant en opbouende kritiek is in skrille kontras met dit wat ek by latere voorleggings van veral digbundel-manuskripte sou ontvang.

“Wat ek wel te sê het en inderdaad sê, is nie vir my lessenaar se toesluitlaai of slegs (vanselfsprekend) simpatieke familie, vriende en kennisse bedoel nie. My skryfwerk dra opbouend by tot die lewens en beskouings van werklike (= gewone) lesers binne én buite vermelde kringe, soos duidelik blyk uit terugvoering.

“Selfpublikasie is nie vir sissies nie, veral as niemand die inisiatief neem om in te spring en jou werk namens jou aggressief te bemark nie. Ek het maar self ingespring ondanks die feit dat ek heeltyd ewe calvinisties oor sulke voor-op-die-wa-geid sleg (ge)voel (het).

“Bemarking word egter veral beperk deur ’n negatief-snobistiese media-bevooroordeeldheid ten opsigte van selfpublikasies (én publikasies deur kleiner uitgewerye). Boekeredakteurs, byvoorbeeld, steur hulle in 99,9% van die gevalle by voorbaat nie aan selfpublikasies nie en gee sulke boeke slegs by die hoogste uitsondering deur aan resensente. Dit kan ek met gesag sê vanuit my eerstehandse ervaring as voorlegger van sulke boeke én as voormalige werknemer in die media.

“Die groot nadeel van selfpublikasie is dat daar gewoonlik nié ‘teksredakteurs’ is wat vóór publikasie manuskripte se taalgebruiks- en stilistiese tekortkominge uitwys en verbeteringe aan die hand doen nie. Dit kán dus vanselfsprekend nie reggestel word nie, tot nadeel van die selfpubliserende skrywer, indien die boek wel geresenseer word.”

In 1998 het Johann ook met die skryf van Christelike boeke begin. Hy het aan die tydskrif Kakkerlak vertel dat hy al in sy standerd 8-jaar in verhouding met die Here Jesus gestel is, maar weens sekere sieninge in die kerk het hy, hardkoppig soos wat hy is, vir nog 17 jaar rondgeploeter en streetwise geword. Toe het die Here hom in 1989 “aan die kraag kom gryp” en hom herinner: “Jy is myne, Ek het jou by die naam geroep.”

Gaandeweg het hy begin verstaan wat die verskil is tussen ’n gewone “kerkganger” en ’n gelowige wat werkende is in die Koninkryk van God. Sy bediening het begin en hy het begin leer om te bid.

Alhoewel Johann naby aan die Here lewe, beteken dit nie dat hy nie moedeloos raak en nie sondig nie. Voorheen het hy as gevolg van depressie fases van geweldige hoogte- en laagtepunte beleef. Tydens die hoogtepuntfase pak hy gewoonlik ’n projek aan wat hy met groot energie dryf. “Die lewe met depressie is nie maklik nie. Wanneer jy ’n trog tref, is jy verlam," vertel Johann in 2010 aan Adéle Dempers (Die Volksblad, 14 Junie 2010). “Jy kan nie dink of doen nie; jy wíl ook nie. Die meeste depressiewe mense ly ook aan slaap- en eetversteurings. Ek self eet of slaap in so ’n fase byna niks nie. In ’n op-fase het ek geweldig baie energie en werk passievol, byna obsessief, aan ’n projek.”

Hy het altesame drie keer probeer selfmoord pleeg. Hy vertel aan Dempers hoe hy op ’n Vrydagaand in 1998 ’n oordosis pille gedrink het. Toe hy eers die Sondagoggend in die Thembisa-hospitaal wakker word en die son sien skyn en die voëls hoor, het hy gewéét sy lewe het radikaal verander. Sy gedig “Selfmoord om elf” verwoord die idee van die genade van God. Na dié voorval het hy ook ’n “ontploffing van kreatiewe skryf” beleef. Sedertdien het hy 21 boeke gepubliseer met Oral is my God as sy laaste gepubliseerde werk.
In 1996 was Johann die wenner van die ope afdeling van die GHA se poësiekompetisie en later, in 1999, die wenner in die ope afdeling van die jaarlikse nasionale kortverhaalkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV), en wel met sy kortverhaal “Die dood van ’n predikant”. Hierdie verhaal is, benewens in die BSV se Inkvars ’99,ook in Desember 1999 se Kasjet en in Gay Pages gepubliseer. Hy was ook in 2004 met “Die stilte in seep” die wenner van ’n kortverhaalkompetisie van die eertydse e-tydskrif Brandpunt. Johann het ook die webwerf Woes se kortverhaalwedstryd van 2012 in die ope kategorie gewen met “Rangeerwerf”.

Johann se vriendskap met en publisiteitswerk vir die Suid-Afrikaans-gebore Duitse komponis Isak Roux het daartoe gelei dat hy verpersoonlikte, veeltalige tekste vir Roux se mini-oratorium Stasies geskryf het. Die wêreldpremière van Stasies was in April 2002 in Stuttgart, Duitsland. Dit is Roux se postminimalistiese musikale vertolking van die sogenaamde “kruisweg” (of “veertien stasies van die kruis”). Oor hierdie samewerking tussen digter en komponis het Roux gesê dat hy weer gesien het hoe gemaklik behendig Johann met Afrikaans en Engels omgaan en alhoewel Roux Johann byna “gedwing” het om die minimalistiese karakter van die werk in sy tekste te weerspieël, het Johann hom hoegenaamd nie laat afskrik nie. “Die resultaat was só skitterend dat ek soms die woord voorrang teenoor die musiek gegun het. Sekere dele van die teks laat my steeds hoendervleis kry wanneer ek dit hoor,” skryf Roux in Skryfsels 3. Die vryskutresensent Johan Cromhout het ook die teksgehalte ná die Suid-Afrikaanse première in Volksblad uitgelig.

Oor Volg jý my en Gee my Jesus (albei 2006) en Hierdie Jesus (2007) het die bekende teoloog Christina Landman geskryf: “Johann Boshoff is nie ’n teoloog nie. En tog beweeg hy op gevorderde vlakke van spiritualiteit, veral met sy boeke oor Jesus wat hy vir Aktuapers skryf. Hy kry daarvoor hopeloos te min erkenning. Dis fassinerend om te sien hoe hy die dialogiese spasies tussen Jesus se mens-wees en sy hemels-wees ontgin, en hoe hy die insigte wat hy hieruit kry, laat grondvat in sy eie spirituele ervarings, en dié van ander.

“Leke-teoloë het gewoonlik die neiging om in die fundamentalisme vas te sit, of om op ’n spesifieke (half-verstaande) tradisie te fikseer, soos op Gereformeerdheid of die Piëtisme. Leke-teoloë ly gewoonlik aan suiwerheidsaanvalle en wil alle teologieë om hulle regdokter met ’n paar Bybelversies of minimalistiese dogmatiese slogans. Dit is nie Johann nie. Hy kyk vanuit ’n wyd-geïnformeerde spiritualiteit na Jesus, en verinnerlik die wysheid wat hy daaruit put, op ’n lewe-gewende manier. ’n Intelligente piëtis, sou ek hom noem.” Dié kategorisering staan reeds soortgelyk aangedui in Die omstrede God (African Sun Media, 2004).

Oor Johann se eerste geestelike boek, So moet julle dan bid (Aktuapers, 1998), skryf Garfield G Havemann: “Johann Boshoff is ’n unieke skrywer wat ’n boek úit gebed geskryf het, wat hom onderskei van diegene wat ‘nog ’n boek óór gebed’ geskryf het. Dit is onmiddellik duidelik dat dit nie net ’n boek óór gebed is nie, maar dat dit uit gebed gebore is. Hy skryf as aktief biddende persoon wat met die dimensies van die onderwerp gekonfronteer word. Geen persoon skryf in ’n vakuum nie en dit is dus vanuit Bybelse dog tersaaklike perspektief (in voeling met huidige kwessies betreffende gebed en 2/millennium-mense) wat hierdie boek geskryf is.

“Boshoff skryf elke hoofstuk op unieke wyse, sonder dat dit gestereotipeer raak of soos ’n standaardresep lyk. Dit bevorder die leeservaring. Dit is dus ’n unieke persoonlike benadering, sonder om selfgesentreerd en daarom weersinwekkend te wees. Die leser kan met die proses identifiseer en kan derhalwe die pad van gebed volg en diep daarby betrokke raak. Boshoff is ’n bedrewe skrywer (wenner van etlike toekennings) en praat oor gebed op ’n nuwe, vloeiende en prikkelende manier. Sy insig roep regtig om ’n publikasie van groter omvang.”

Op ’n vraag van Chrisna van Rensburg (Kakkerlak, 2006) oor hoe dit voel om ’n boek (daarmee word ’n geestelike boek bedoel) die mark in te stuur, antwoord Johann: “Al kom net een mens terug wat sê dat hy ’n boodskap ontvang het, is dit vir my genoeg. Ek beskou myself slegs as die neerskrywer van die boodskap en nie die outeur nie. Soms staan ek self verstom oor dit wat ek geskryf het. In die skryfproses kom 'be-Gees-tering' en inspirasie eerste en is vakmanskap van skryf nie ter sprake nie; dit kom later."
Op 17 Desember 2006 is vier boeke van Johann tegelykertyd in Pretoria op ’n private geleentheid bekend gestel. Dit was Gee my Jesus, sy vyfde Christelike boek, Klankdig, sy derde digbundel, Skryfsels 2, sy tweede multigenre-bundel, en Dag van die bloeisel, sy enigste jeugnovelle.

Dag van die bloeisel (met ’n herdruk op aanvraag in 2010) probeer van drie tieners se onstuimige lewens sin maak. Karel worstel met sy seksuele oriëntasie, Dirk het ’n dwelmprobleem en Tanja se ma slaap rond en misbruik alkohol. Volgens Fanie Viljoen (Volksblad, 30 November 2010) is hierdie temas steeds relevant en jongmense sal beslis hiermee kan identifiseer. Viljoen sê die skrywer hanteer die tienerangs met deernis. Hulle soeke na vryheid kom na vore wanneer al drie dieselfde opstelonderwerp, “Die waarheid maak vry”, in die eksamen kies.

"Van die novelle se sterk punte," skryf Viljoen, "is sy karakterisering, sintuiglike waarneming en aktualiteit. Daar is egter ook ’n paar haakplekke. Sommige jong mense sal sukkel met sekere sinskonstruksies, terwyl die skrywer ook te veel gebruik maak van kort sinne. Daar het ook foute ingesluip wat ’n uitgewer kon raakgesien het as dit nie ’n selfpublikasie was nie.

"Die drie karakters se verhale word in die klimaks saamgetrek. Tieners kies vandag eerder realistiese as gelukkige eindes en albei is in die slot verteenwoordig, wat ’n regte balans vir die novelle is."

In 2008 is Johann as die Afrikaanse skrywer van die dekade in die eertydse Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) se veeltaligheidswedstryd aangewys. Die wedstryd, wat aangebied is ter viering van Pansat se eerste dekade, het na mense en instansies gesoek wat ’n bydrae gelewer het om nasiebou deur veeltaligheid te bevorder.

Sy benoeming het onder meer verwys na die “literêre eerste” vir Suid-Afrika wat in sy eerste digbundel Bloot (1998) gelees kan word. Een van sy gedigte in dié bundel is in al die amptelike tale vertaal (soos reeds gemeld is). Daar is ook verwys na die mini-oratorium Stasies (2002) in Afrikaans, Engels, Xhosa en liturgiese Latyn, en na die oorspronklike grondteks van die jazz-gospel-kantate Coming home in Afrikaans, Engels, Sotho en Zoeloe.

Johann het gesê die toekenning is vir hom ’n groot voorreg en dit is sy absolute erns om vanuit sy moedertaal deur vertalings brûe te bou tussen Afrikaans en ander kultuur- en taalgroepe in die land.

In 2008 het MIAGI (Music Is A Great Investment) aan Isak Roux en ook, danksy Roux, aan Johann die opdrag gegee om die vermelde veeltalige jazz-gospel-kantate te skep. Isak se opdrag was vir die musiek (komposisie en verwerking) en Johann s’n vir die oorspronklike teks en vertalings om die gebruikte musiekstukke in ’n narratief saam te bind. Vertalings in Sotho en Zoeloe, onderskeidelik deur Brenda Nomadlozi Bokaba en Ntheoseng Maroba, is gebruik. Die première van Coming home was in 2008 in Johannesburg. In Desember 2009 is dit in sy eerste aanpassing ná 2008 in Roodepoort aangebied en in 2011 in Kaapstad, Johannesburg en Durban, met onder andere die wêreldbekende Sibongile Khumalo as sopraan en Tim Moloi as bariton. Roux het self die klavier gespeel en Sello Maake Ka-Ncube was die verteller.

Die volgende teks van Johann word deur die verteller aangebied (Afrikaans, Engels en Sesotho):     

Lied van die weggevoerdes

Te ver van huis en tuis wees,
aan my lewe se some sit ek
en rafel uit, ja, rafel uit
tot toiings, fraiings van bestaan.

What has put into exile my heart, my head, my body, my powers?
What has thus enchanted me
that now in ashes and rags I sit?

Hobaneng ha leleme la ka le rarahane?
Ho etsahetseng ka pina ya ka?
Hobaneng ha ho kgutsitse?
Ke eng e timeditseng pina ya ka?
Ke foufaditsweke eng?
Hobaneng ha letlalo la ka le sa utlwe letho?
Ke thethefaditswe ke eng?
Hobaneng jwale ke nkgellwa ke dibodu
Monko o monate o ile kae?

And closer than breath, louder than my heart,
something’s knocking in me, knocking ...

Sibongile Khumalo het die Zoeloe van Johann se verwerking van die “Magaliesbergse aandlied” vir die Coming home-narratief al meermale as konsertstuk in die buiteland en in Suid-Afrika gesing.

In 2009 het Johann drie boeke tydens die Volksblad-kunstefees bekendgestel, naamlik Lydensgebede (sy omdigting van Eric Milner-White se klassieke gebedeboek A procession of passion prayers); Jesus bid (waarin hy in 31 oordenkings sy “ongekompromitteerde, in alle opsigte Jesus-gesentreerde teologie op die spits dryf”); en Aankoms, sy viertalige literêre bundel.

In 2010 het hy op Richmond in die Karoo die herdruk van Dag van die bloeisel, asook Volledig Christen, volledig méns, sy negende Christelike boek, bekendgestel. Oor die herdruk van sy jeugnovelle het Johann gesê dat hy benewens toenemende navrae besluit het om dit te doen, maar ook “omdat hierdie boek my op sentimentele vlak besonder na aan die hart lê”. Dit is oorspronklik onder druk van ’n bekende skoolboekuitgewery binne slegs tien dae geskryf. “Al wat ek gehad het, was ’n tema (die waarheid maak vry) en ’n teikengroep (adolessente, al kom die meeste herdruk-versoeke van volwassenes).” Vandag bestaan daar reeds twee draaiboeke gegrond hierop, albei deur Adrian Freeman: Dag van die bloeisel en Truth blossoms.

Aankoms, wat ’n multigenre-bundel in vier tale is, is in 2009 in beperkte oplaag gepubliseer. Dit bevat die kortverhaal “Stilte in seep” en die Coming home-tekste in Afrikaans, Engels, Sotho en Zoeloe. In die inleiding sê Johann dat die doel met die werk is om veeltaligheid en moedertaalletterkunde te bevorder. Hy glo die verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes (en dus kulture) moet deur vertaling vir mekaar toeganklik gemaak word om ’n nasie te kan bou. Aankoms is in die kategorie literêre vertaling vir ’n Sala (South African Literary Award) benoem.

Lebohang Mathibela, lektor aan die Departement Afro-Asiatiese Studie, Gebaretaal en Taalpraktyk aan die Universiteit van die Vrystaat, skryf in Volksblad (25 Augustus 2009) dat albei tekste in Aankoms se kerntema versoening is, asook die teruggaan na die Skepper. Hy is veral beïndruk met die styl waarin die vertalings gedoen is. Die Sotho- en Zoeloe-leser behoort baie trots te wees op die professionele manier waarop die vertaling gedoen is.

In 2000, danksy sy werk as Isak Roux se publisiteitsagent, het hy vryskutjoernalistiek begin doen. Johann het vanaf April 2004 ook as Rosendal-korrespondent vir Vrystaat, die Oos-Vrystaatse streekkoerant, en Volksblad Kontrei geskryf. Hy het ook talle resensies oor onder meer boeke en allerlei optredes, opvoerings of uitvoerings geskryf.

Op 2011 se Vryfees (nou die Vrystaat Kunstefees), met die bekendstelling van onder meer sy Digsels: ’n Lewe in versvorm en Rangeerwerf: Die waarheid gelieg, het Johann aangekondig dat hy nie meer literêre werk en Christelike boeke gaan skryf nie, want hy was “gans te ontnugter met ‘die bedryf’ se intelery en God-spelery”.

Dit was gedeeltelik waar. Ondanks die sloerende hofsaak publiseer hy in 2013 self Oral is my God, ’n Christelike oordenkingsbundel. Dit sou die laaste boek in die Aktuapers Boodskapper-reeks wees, maar Boodskapper is glo vóór die publikasie daarvan as onderafdeling van Aktuapers gesluit.

Hierbenewens het Johann ander tekste geskep, waarvan slegs enkeles by die skryf hiervan op die internet gelees kan word. Johann beoog om alle ná-2008-tekste wat nie in drukvorm gepubliseer is nie, later as My pad: Skryfsels 4 die lig te laat sien. Dit sal ’n veeltalige multigenre-bundel wees met enkele tekste wat spesiaal vir die publikasie geskep is.

Johann Boshoff is op 13 Mei 2016 oorlede.

Publikasies

Publikasie

Ons wag op die kaptein. Werkboek 1 en 2

Publikasiedatum

1984

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Raka. Werkboek

Publikasiedatum

1985

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Senior verseboek. Werkboek

Publikasiedatum

1985

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kortgesprek. Werkboek

Publikasiedatum

1985

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Grammatika. Werkboek 1 en 2

Publikasiedatum

1986

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skakering 1987–1990. Werkboek

Publikasiedatum

1987

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Digters en digkuns deur PJ Nienaber. Werkboek 1 en 2

Publikasiedatum

1988

ISBN

086877278X (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Stelwerk. Werkboek

Publikasiedatum

1988

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Met ander woorde

Publikasiedatum

1988

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Edison’s/Unibook

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skakering 1990–1993. Werkboek

Publikasiedatum

1989

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Turret Correspondence College

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Afrikaans quiz: 1 000 vrae en antwoorde oor taalwerk

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798507446 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: College Tutorial Press

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Bloot

Publikasiedatum

1998

ISBN

0620231564 (sb)

Uitgewer

Sunnyside: Selfpublikasie

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Só moet julle dan bid

Publikasiedatum

1998

ISBN

1868153312 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Ritueel

Publikasiedatum

2002

ISBN

0620296049 (sb)

Uitgewer

Sunnyside: Selfpublikasie

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Stasies

Publikasiedatum

2002

ISBN

0620295600 (sb)

Uitgewer

Sunnyside: Selfpublikasie

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

U koninkryk in my

Publikasiedatum

2003

ISBN

1868154297 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skryfsels: 2001–2004

Publikasiedatum

2004

ISBN

0620319143 (sb)

Uitgewer

Rosendal: Selfpublikasie

Literêre vorm

Multigenre-publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Werklik vry!

Publikasiedatum

2004

ISBN

1868154378 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dag van die bloeisel

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2010

ISBN

0620378107 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Selfpublikasie

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Klankdig

Publikasiedatum

2006

ISBN

0620377540 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Selfpublikasie

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skryfsels 2

Publikasiedatum

2006

ISBN

0620377542 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Selfpublikasie

Literêre vorm

Multigenre-publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Volg jý My!

Publikasiedatum

2006

ISBN

1868154890 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Gee my Jesus

Publikasiedatum

2006

ISBN

186815498X (hb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hierdie Jesus

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781868156573 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skryfsels 3: Tuiskoms

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780620404792 (sb)

Uitgewer

Selfpublikasie

Literêre vorm

Biografiese feesskrif in Afrikaans, Engels, Sesotho en isiZulu

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jesus bid

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781868157211 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Aankoms

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780620435963 (sb)

Uitgewer

Selfpublikasie

Literêre vorm

Multigenre-publikasie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Volledig Christen, volledig méns

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781868157211 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Aktuapers

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Rangeerwerf: die waarheid gelieg (hersiene uitgawe van Ritueel)

Publikasiedatum

[2011]

ISBN

9780987009203 (sb)

Uitgewer

Selfpublikasie

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Digsels: ’n lewe in versvorm

Publikasiedatum

[2011]

ISBN

9780620451260 (sb)

Uitgewer

Selfpublikasie

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Oral is my God

Publikasiedatum

[2013]

ISBN

9780987009210 (sb)

Uitgewer

Selfpublikasie

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Johann P Boshoff as vertaler:

  • Milner-White, Eric: A procession of passion prayers. Pretoria: Aktuapers, 2009 [ISBN 9780868157228 (hb)]

Johann P Boshoff as redakteur:

  • Ons onthouboek: Reünieboek van die 1973-matrieks van Hoërskool Sentraal Bloemfontein. Bloemfontein: 2010 [ISBN 9780620451284 (sb)]

Artikels oor Johann P Boshoff beskikbaar op die internet:

Artikels en ander skryfwerk deur Johann P Boshoff beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • E-pos-onderhoud met Johann P Boshoff vir die skryf van hierdie stuk
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Johann P Boshoff (1956–2016) appeared first on LitNet.


Winnie Rust (1939–2016)

$
0
0
winnierust280
Foto: Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Winnie Rust is gebore as Wilhelmina Rust op 14 April 1939 op die Swartlandse dorp Moorreesburg. Haar vader was destyds Afrikaans-onderwyser aan die hoërskool in die dorp. Sy was die middelkind van drie kinders. Haar jongste broer is CN (Chris) van der Merwe, wat professor in Afrikaans by die Universiteit van Kaapstad was en haar oudste broer CP van der Merwe, wat ’n huisdokter in Kaapstad was.

Winnie het uit ’n skrywersfamilie gestam. Haar vader, CP van der Merwe, se oudste broer was die bekende skrywer Boerneef. CP van der Merwe was in sy lewe ’n baie bekende opvoedkundige en was eers dosent en later hoof van die eertydse Onderwysopleidingskollege op Wellington in die Boland. Hy was ’n baanbrekerskrywer van taalhandboeke en opvoedkundige artikels.

Winnie het in Die Unie van Desember 1959 ’n terugblik op haar pa geskryf wat weer in Die Unie van November 2005 geplaas is: "My kleuterherinneringe van hom is vol kindervreugdes: daar was groot blydskap as ons die bekende staccato-fluite met sy tuiskoms van die skool af hoor (toe nog hoërskool-onderwyser op Moorreesburg). Saans was daar heerlike Boplaasstories van Joors Jorrie en Dirk Ligter en Pensie. As ons motor ry, het vier pronk-Boplaasperde die motor getrek: Meerlus, Also, Netso, Stokwil. Pa het hulle van agter die stuurwiel luidrugtig aangemoedig: 'Kom nou julle swartes, Meerlus, Also, Netso – hoo-o my o-l-e!'

"Ek was saans bang vir die donker, maar was nie meer as Pa langs my kom lê het nie. Pa was altyd daar, en hy het vir ons tyd gehad: in my kinderdrome uitgekristalliseer tot ’n groot, sterk man wie se hand ek kon vashou. Hy was nie ’n vreemde skim-figuur wat ons net van die nodige tasbare, materiële dinge voorsien het nie. Hy was ’n aktiewe opvoeder, ’n wesenselement van ons huisgesin. Pa was dáár, en Pa was vaste vesting."

Winnie het haar as kind altyd meer met haar pa vereenselwig en sy het hom beskryf as haar "rolmodel", terwyl haar ma haar meermale in die verleentheid gestel het met ondeurdagte opmerkings. Maar nadat haar ma oorlede is, het sy aan Suzette Kotzé-Myburgh vertel dat sy baie maal gedink het aan die aanhaling wat Karel Schoeman in Die laaste Afrikaanse boek geskryf het, soos Marcel Proust dit gestel het: "When you have become accustomed to the dreadful truth that the time when you still had your mother is banished forever in the past, you will find her gently returning to life, coming back to take her place, her whole place, beside you. The eyes of memory see nothing if we strain them too hard. Only try to live, to survive, leave the beloved images to grow in you without the help of your conscious will, and they become reborn never to leave you again."

Winnie het aan Suzette Kotzé-Myburgh vertel dat sy in ’n "geborge ouerhuis" grootgeword het. Haar ouers het heelwat verskil wat betref agtergrond en persoonlikhede, maar het tog ’n baie goeie huwelik gehad.

Winnie se ma was Margery Norden en Winnie het later meer oor haar vertel in die verhaal “Margie” in Margie van die Seminary. "My ma was presies soos wat ek in die verhaal beskryf: half-Boer gebore, maar meer Engels in opvoeding en styl. Verder borrelend, spontaan, lief vir die lewe, lief vir aantrek, lief vir juweliersware. Later jare, toe haar oë al swak was, was daar altyd ’n rooi smeersel oor haar wange en spatsels poeier. Sy het niks 'klein' gedoen nie. My kinders was dol oor haar. Die lewe het haar kwaai knoue toegedien: sy het haar man oornag verloor, kort daarna kolonkanker opgedoen, ’n mislukte katarak-operasie gehad wat die een oog half blind gelaat het, ek kan nie eers tel hoeveel valle gehad nie, maar het voortgegaan met lewe. Ek het haar feitlik nooit hoor kla nie." Op 87-jarige ouderdom is sy ouetehuis toe en sy is op 98-jarige ouderdom oorlede.

Winnie het verder aan Kotzé-Myburgh vertel dat sy haarself nog altyd daaroor verwyt dat hulle haar ma in ’n ouetehuis gesit het, want sy het nie daar gehoort nie. "Aanvanklik het sy dapper haar ou lewenstyl probeer voortsit, maar algaande al meer vereensaam. (...) Die laaste klompie jare was ontsettend eensaam. Dit was feitlik net ek wat nog daar gekom het. En sy was haar lewe lank so sosiaal, lief vir onthaal en lief vir mense.

"Met haar 90ste verjaardag het ek besluit om ’n boek oor haar lewensloop saam te stel. Die begin van die verhaal het dus werklik gebeur: ek het met haar gaan sit, ou foto’s gewys, en uitgevra. Haar lewe het toe op wonderbaarlike manier in my gestalte gekry; anders sou ek seker die verhaal nie na haar dood só kon beskryf nie.

"In die laaste jare van my ma se lewe, het ek die boek vir iemand gegee om na te kyk. Haar kommentaar was: die storie van jou ma is nog nie voltooi nie. Jy het nog nie oor die laaste jare – dit is die eensame jare ná 90 – geskryf nie. Eers ná haar dood het ek ’n aparte boekie oor die laaste jare saamgestel. Dié het ek gebruik toe ek Margie se verhaal geskryf het."

Winnie was ses jaar oud toe hulle Wellington toe getrek het. Daar het sy haar hele skoolloopbaan deurgebring en in 1956 aan die Hugenote Hoërskool matriek gemaak.

Sy het reeds as jong kind al in die skryfproses belanggestel en van haar verhaaltjies het in Die Jongspan verskyn.

Verdere studie en werk

Ná skool is Winnie na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1959 haar BA-graad met Afrikaans en Duits as hoofvakke verwerf het. In 1960 het sy haar as onderwyseres bekwaam. Sy het daarna aan die Hoër Meisieskool Rustenburg in Rondebosch in die suidelike voorstede van Kaapstad begin werk.

Aan die einde van 1961 is Winnie en Manie Rust, ’n mediese dokter, ook van Wellington, getroud. Drie dogters – Anna (Grietjie), Helena en Winnie) – en een seun – Hugo – is uit hierdie huwelik gebore. Winnie het haar onderwysloopbaan vaarwel toegeroep en het die vier kinders grootgemaak.

Sy was in 1965 die stigterslid van die Wellington Besprekingsgroep – nou die Gesprekskring. Eugenie Wiggens skryf in PEN Afrikaans se nuusbrief van Junie 2016 dat Winnie destyds glo gesê het sy wil so iets begin om bietjie weg te kom van “babas en bottels”. Die hele idee was dan ook dat die lede self moes oplees en navors oor ’n onderwerp wat hul interesseer en dit dan met die ander kom deel sodat almal se brein gestimuleer kon word en hulle horisonne kon verbreed.

Winnie was gedurende haar leeftyd ’n baie betrokke en aktiewe deelnemer aan die verskillende aktiwiteite in Wellington. Sy en Manie was in 1975 stigterslede van die Wellington Museum en het deur die jare ’n baie aktiewe rol gespeel in al die projekte wat die museum aangepak het. Sy het ’n rol gespeel in die dramavereniging, was lid van die Marturia-koor en was ook betrokke by die kategese, asook Bybelstudiegroepe vir vroue op die dorp, "waardeur ek die Bybel beter leer ken het, en wat vir my baie gehelp het met die opstel van Aangeraak deur die liefde" (Die Burger, 4 November 1982).

In 1997, op 58-jarige ouderdom, het sy weer begin studeer en het aan die einde van 1998 haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands verwerf en in 2000 haar meestersgraad. Haar verhandeling is getiteld “Limietberge. Die fiksionalisering van die kleingeskiedenisse van enkele vrouefigure van my dorp”. Een afdeling van haar meestersgraad was kreatiewe skryfwerk en Martha, haar eerste boek, het ’n onderafdeling vir hierdie graad gevorm.

Voordat Winnie se werk waarvoor sy onthou sou wou word, Martha: ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford, in 2004 gepubliseer is, was sy al bekend vir baie ander publikasies:

  • Twee destydse Bybelkorgidse (tans Bybel-Media): een vir tieners (Liewe dagboek – 1983) en een vir vroue: Vrou 2000 (1994).
  • Sy was medeskrywer van ’n rubriek in Die Kerkbode getiteld “Stilhouplek”, asook medeskrywer van die “Post Scriptum”-rubriek in die Paarl Post.
  • Vir Carpe Diem-uitgewers het Winnie deur die jare heelwat bydraes vir dagboeke vir vroue geskryf.
  • Twee van haar verhale wat in Literator verskyn het, naamlik "Queen Elizabeth" (1999) en "Trek aan jou klere, Boeta" (2001) is met die Literaprys vir debuterende skrywers bekroon. Hein Viljoen, redakteur van Literator, beskryf "Queenie" as ’n verhaal met "bedrieglike eenvoud, met agter die nugter feite 'n ontroerende realiteit. Dit is 'n verbeeldingryke inlewing in die gemoed van 'n ou mens."
  • Deur die jare is baie van Winnie se kortverhale in Sarie gepubliseer en in 1992 is "Die Maartblom" (onder haar nooiensvan, Van der Merwe) in Sarie se liefdestreffers opgeneem. "Lei, vriend'lik lig" is opgeneem in Die melkweg het ’n ster laat val wat saamgestel is deur Riana Scheepers en "John" is opgeneem in Bloots, ’n bundel erotiese kortverhale (samestellers Peter van Noord en Karin Eloff) .
  • Deur haar baie nou betrokkenheid by die museum op Wellington was sy ook medewerker aan Bainskloof- en ander bergstories in 1999 wat deur die museum bemark is. Dit is ook in Engels vertaal.
  • Winnie het ook begin om verhaaltjies oor plaaslike persoonlikhede op te teken en in 2003 het sy vir Charlotte Cupido gehelp om gebeure uit haar lewe saam te stel wat gepubliseer is as Vra na die ou paaie (2003). Sy was in Augustus 2004 ook die samesteller van Vrouedagstories, ’n dramatisering van die lewens van gewone vroue wat op Vrouedag met ’n groot mate van sukses in die Wellington Museum opgevoer is.
  • Winnie was deur die jare nie net verantwoordelik vir oorspronklike werk nie, maar het ook vertaal- en radiowerk gedoen, en in 2003 is twee reekse radiopraatjies onder die titel Die hartklop van God deur Lux Verbi uitgegee. Dit is dagboekstukke van Andrew Murray. Die destydse SAUK het haar radioprogram Die vrou met die verfynde gees oor Vrouerubriek uitgesaai en dit is in 1982 in boekvorm onder die titel Deur die liefde aangeraak deur NG Kerk-uitgewers gepubliseer. Haar reisverslag oor ’n bootreis op die Franse kanaal, ’n Reis met ’n verskil, is in September 1995 op die radio uitgesaai.
  • Winnie was een van die persone wat ’n aandeel gehad het in die stigting van die plaaslike Afrikaanse leeskring in 1994 en sy was ook aktief betrokke by ander poësie- en leeskringe. Ook was sy lid van die Afrikaanse Letterkundevereniging.

En toe, in 2004, gee Hemel & See Boeke Martha: ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford uit. Dit was op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir 2005.

Oor die agtergrond en ontstaan van Martha het Winnie aan die Kaapse Bibliotekaris (Julie/Augustus 2006) vertel dat sy saam met ander mense gewerk het aan die optekening van die geskiedenis van Wellington voor 2000 en dat dit haar verantwoordelikheid was om die verhale van Wellington op te teken.

"Met die opskryf van die verhale, kry ek ’n nuwe perspektief op my dorp, soos hy vroeër gelyk het: die strate, die mense, die geboue. Ek kyk op ’n nuwe manier na die berge. Ek kyk op ’n nuwe manier na my dorp, en die verlede word deel van my daaglikse bestaan. Die verlede word ’n wonderlike verruiming van dit wat jy is; dit begin as ’t ware in die hede invloei en neem elke dag baie van jou gedagtes in beslag.

"So ontmoet ek toe vir Martha. Martha was die dogter van ’n slaaf met die bynaam 'Queen' Rebecca, ’n eksentrieke straatkarakter van die laat 19de eeu. Waarskynlik – en hiervoor is daar geen bewyse nie – het sy op Wellington skoolgegaan, aan een van die allereerste skole waar slawe onderrig gekry het in die Bovlei, distrik Wellington. Voor Martha se 33ste jaar het sy verskillende kinders by verskillende mans. Haar van word in die geslagsregisters opgegee as Solomons, seker die laaste van die baie mans voordat sy vir Harry Grey, die remittance-man ontmoet."

In ’n artikel in Die Burger (17 September 2005) vertel Winnie dat die uitdrukking “remittance-man” gebruik is vir wanneer ’n man hom nie volgens die etiese kode van die Britse adel gedra het nie en dan weggestuur word. ’n Gereelde toelaag, of remittance, is dan aan hom betaal om hom te help om aan die lewe te bly.

Harry Grey was ’n Anglikaanse predikant en sy pa, ook Harry Grey, was ’n vervreemde Anglikaanse predikant. Harry junior was ’n alkoholverslaafde toe hy in 1854 in die Kaap aangekom het. Hy het aanvanklik in Wynberg in die Kaapse suidelike voorstede gebly voordat hy na Namakwaland is. In Suid-Afrika het hy steeds voorkeur aan sy losbandige lewe gegee. Hy was nie net lief vir drank nie, maar ook vir vroue. Hy het dan ook ’n liefde vir vroue van "nederige afkoms" getoon. Dit is nie alte seker hoe Harry en Martha mekaar ontmoet het nie, maar Harry is intussen met Annie MacNamara getroud en die storie lui dat Martha by hulle ingetrek het om te help met die verpleging van Annie tot haar dood.

Harry en Martha het vir dr Philip Faure, predikant van die NG Kerk in Wynberg, ontmoet en hulle was op goeie voet met hom en sy opvolger, ds Strasheim. ’n Seuntjie en ’n dogtertjie is vir die twee gebore wat albei deur ds Strasheim gedoop is. In 1880 het hy hulle oorreed om te trou en die seremonie is in die Wynbergse pastorie gehou. Daarna het hulle nog ’n dogtertjie gehad.

In 1883 sterf ’n neef van Harry onverwags. Omdat dié nie kinders gehad het nie, het Harry, wat die volgende in die ry vir die titel was, die agtste graaf van Stamford geword. Hy het ook die eienaar geword van eiendomme in Engeland, en het ook sitting in die Engelse parlement gehad. Martha het die gravin van Stamford geword.

Hierna het Harry ook ’n hele ommekeer in sy lewe gehad. Hy het in die bou van groot eiendomme in Muizenberg en Claremont belê en het ook vir arm mense huise gebou en baie geld vir die kerk gegee. Maar ongelukkig is hy sewe jaar later aan longkanker oorlede. Martha, wat toe die meeste van die eiendomme in haar naam gehad het, was ’n welvarende vrou, maar het haar nederigheid behou. Sy het grond vir die Wynbergse kerk gegee om ’n skool op te rig – ’n skool wat, soos Martha dit wou gehad het, bedoel was "vir die opvoeding van die kinders van Wynberg". Alle kinders moes toegelaat word. Hierdie skool het later die Battswood-kollege geword met onder andere Richard van der Ross wat sy vader as hoof opgevolg het.

En dit is dan wat Winnie se boek Martha is: die verhaal van ’n ongelooflike vrou wat van nederige afkoms uitgestyg het en nooit haar eie mense vergeet het nie. Die eerste bruin vrou met ’n titel.

Madeleine van Biljon beskryf Winnie in Die Burger (22 November 2004) as iemand met ’n "fenomenale skryftalent", wat tot die leesbaarheid van die roman bygedra het. "So verweef raak die leser in Martha se sonderlinge lewensloop dat jy meer wil weet, meer wil leer van die mense wat rolle speel."

Vir Van Biljon was dit veral Rust se beskrywings van Wellington van vroeër dae wat haar tot haar reg as skrywer laat kom het. Haar beskrywings is "liries" en nooit "soetsappig" nie. "Dis ’n ryk geskakeerde tapisserie van ’n boek, louter plesier om te lees. Mag Rust die louere kry wat haar toekom en mag sy in haar toekomstige boeke die pas kan volhou. Watwou, dalk oortref!"

In Beeld (13 Desember 2004) skryf Jo-Ann Floris dat Martha "uiteindelik ontplooi as die storie van menige vrou wat krag diep uit haarself moet put om ’n gesin aanmekaar te hou, al tel alles teen hulle."

Vir Joan Hambidge was daar aangrypende gedeeltes in Martha, maar was die storie te "tydskrifagtig", omdat daar nie ’n duidelike afwisseling tussen ’n "meer beheerste stem en die naïewe verteller" was nie.

Barend J Toerien het in Rapport van 1 Mei 2005 geskryf: "Winnie Rust ’n buitengewone vertelvermoë: die onmiddellike aspekte van die verteller, die spontane, helder taal."

Oor Margie van die Seminary en ander verhale (Human & Rousseau, 2011) het die uitgewers geskryf: "Ses fenomenale vroue se verhale het oor Winnie Rust se pad gekom en sy kon nie anders as om dit op te teken nie. Só is haar kortverhaalbundel, Margie van die seminary, gebore. Al die vrouekarakters in die bundel het hulle op een of ander tyd in Wellington bevind en, soos die titel aandui, staan die Seminary op die dorp sentraal tot die vertellings. Rust is al jare lank by die Wellington Museum betrokke waar hulle elke jaar op Vrouedag probeer om ’n vrou uit Wellington se geskiedenis te vereer. Sommige van die karakters het deur haar werk by die museum oor haar pad gekom en ander se verhale is deur hul familielede aan haar vertel. Die bundel begin by haar eie ma, Margie, se verhaal. Daar is in die bundel ’n 'sinkronistiese vloei' van die een verhaal na die ander. Om dit te bewerkstellig het Rust ’n skrywerskarakter geskep wat tussen die verhale in beweeg."

Die vroue in die verhale van Margie van die Seminary is Margie (haar ma, hoewel dele van die verhaal gefiksionaliseer is), Elizabeth Rolland, Emma Murray, Celestine Schoch, Abbie Ferguson en Louisa, ’n onderwyseres aan die Seminary. Al ses hierdie vroue was op een of ander manier aan die bekende Huguenot Seminary op Wellington verbonde.

Elizabeth Rolland was die oumagrootjie van Adrienne Joubert wat 40 jaar lank orrelis van die Moederkerk op Wellington was. Sy is in 1829 as sendeling deur dr Philip van die Londense Sendinggenootskap na Suid-Afrika gebring. Sy was met Samuel Rolland, ook ’n sendeling, getroud en die lewens van sendingvroue het altyd vir Winnie gefassineer. In The recollections of Elizabeth Rolland is ’n sin – “In after years it was when, under the pressure of the cruel disappointment, I discovered that my marriage was a grave mistake” – wat Winnie laat besef het dat daar in die lewe van Elizabeth genoeg is om ’n roman te skryf. Sy het egter toe nog nie weer kans gesien vir ’n roman nie en het ’n lang kortverhaal geskryf. Toe het Janita Holtzhausen van Human & Rousseau die voorstel gemaak dat sy die ses verhale oor die vroue aaneen moet skakel met ’n "skrywer-persona" (Winnie self) wat die vroue as ’t ware besoek.

Emma was met die bekende Andrew Murray getroud en deur briewe van Emma aan haar man wat in boeke opgeneem is, het Winnie ’n heel ander sy van Andrew Murray leer ken en kon sy ook die mens Emma Murray aan mense bekendstel.

Celestine Schoch was lid van ’n groep mense wat onder die charismatiese prediker Wouter Groenewoud vanuit Nederland na Suid-Afrika gebring is. Hulle het vanaf 1868 tot 1872 op Wellington in die White House (later die eerste skool, die Seminary) gebly. Celestine was ’n verfynde vrou van half-Franse afkoms wat op 60-jarige ouderdom na Suid-Afrika gekom het. Haar man is jonk oorlede en sy moes hulle vyf seuns alleen grootmaak. Sy het soms aan depressie gely, en die feit dat sy vatbaar was vir die charisma van Groenewoud, kan dalk hieraan toegeskryf word.

Andrew Murray het in 1871 twee onderwyseresse uit Massachusetts in Amerika na Suid-Afrika gebring om sy skool op die grondslag van die Amerikaanse model te stig en Abbie Ferguson was een van die twee. In haar verhaal oor Abbie laat Winnie Abbie aan die einde van haar lewe terugkyk. In ’n boek van haar broer George Ferguson, Builders of Huguenot, beeld hy Abbie se laaste jare op aarde uit en dit was die inspirasie vir Winnie.

Die laaste vrou in Margie van die Seminary is Louisa, wat ’n afgestudeerde onderwyseres van die Seminary was. Sy was getroud met ’n man wat ontrou aan hulle huwelik was, maar ten spyte daarvan het sy hom telkemale vergewe en oral saam met hom gegaan in sy soektog na avontuur en rykdom. Edie, Louisa se dogter, het die storie aan Winnie vertel en Winnie het die kinkel van ’n kleinseun van Louisa wat dieselfde swakheid as sy oupa gehad het, self bygewerk.

In Rapport van 6 November 2011 skryf Annemarié van Niekerk dat "met ’n skerp historiese sintuig en ’n fyn literêre aanvoeling, passende vertelstyl en taalgebruik, Rust dit regkry om die gees van hierdie era soepel te vertolk en die vroue ’n eie stem te gee. Rust se bundel verhale is ’n stimulerende leeservaring, literêr en histories. Ek kan nie wag om weer deur die strate van Wellington te gaan stap nie. Dié keer met ’n ander kyk."

In 2013 verskyn Winnie Rust se volgende roman, Trek. Soos beide haar vorige twee boeke speel ook Trek meestal in Wellington af. Winnie het aan JB Roux (Die Burger, 25 Maart 2013) vertel dat die boek aanvanklik geskryf is as ’n bundel kortverhale, maar dat die uitgewers nie baie entoesiasties daarop gereageer het nie.

"Ek het ’n hele kartonboks vol navorsing en herskryf en oorskryf," vertel sy aan Roux. "Mense dink altyd as jy ’n skrywer is, dan skryf jy ’n boek een keer en dan's dit klaar. Dit werk nie so nie, dis ’n baie lang proses."

Die gedwonge verskuiwings van bruin mense uit onder meer Fontein- en Hopestraat in Wellington, asook die familie op die plaas Bovlei en die intriges aldaar, dien as agtergrond vir Trek. Die hoofkarakter in die verhaal is Miss Girlie, wat Winnie losweg geskoei het op haar jare lange vriendin, Charlotte Cupido, wat ook op Bovlei onderwys gegee het. Maar, het Winnie aan Roux gesê, "Miss Girlie se verhoudings is my versinsels en hou geen verband met Charlotte nie."

Vir geloofwaardigheid het Winnie sterk gesteun op die vertellings oor Bovlei van Christine Siebrits en die baie goeie navorsing wat Anna-Rita van der Westhuizen oor die Italiaanse krygsgevangenes gedoen het. Met die hulp van die oudburgemeester van Wellington, Herman Bailey, is gespreksgroepe gehou en dit het Winnie gehelp om die geweldige invloed wat die Groepsgebiedewet op mense gehad het, beter te verstaan.

Die meeste karakters in Trek is deur Winnie geskep; die storie is net teen die agtergrond van die plaaslike geskiedenis gesitueer. Sy het onder andere datums van werklike gebeure verander om te verseker dat die geskiedenis by haar storielyn kon aanpas.

Toe hierdie verskuiwings in die laat 1950's plaasgevind het, was Winnie ’n student op Stellenbosch en het sy nie geweet van wat op haar tuisdorp gebeur het nie, het sy aan Roux vertel. "Nou, ná 50 jaar, speel die hartseer-tonele voor my af. Ek kan my voorstel dat die intimiteit van buurskap tussen wit en bruin ’n lelike knou gekry en ’n nasmaak gelaat het. Die intieme kennis van mekaar se lewe is grootliks weg. Ek hoop die boek dra iets universeels oor. Trek gaan vir my oor wat mense of groepe mekaar kan aandoen. Die motief is gewoonlik mag of baasskap. Die 'trek' wat die bruin mense in die 1960's beleef het, verwys ook na die hedendaagse trek landuit."

In Kerkbode van 17 April 2013 vertel Cecile Cilliers die storie van Trek: "Van Bovlei en die plaas Weltevrede trek hulle weg, uit hartseer, vrees of opstand teen Boeta se hardhandige optrede. En onder hulle tel Miss Girlie en Lambert, Hanna en haar kinders, en eindelik selfs Magriet. Dié wat dorp toe trek, sluit hulle aan by die ander inwoners van Wellington, waar wit en bruin saamwoon, en in mekaar se lief en leed deel. Om dan deur die geweld van apartheid uit hulle rustige woonbuurte geskeur te word – om in huisies buite die dorp te gaan woon. Die Sendingkerk word gesloop.

"Die verhaal word vanuit verskillende karakters se blikhoek vertel: Miss Girlie, die slim bruin onderwyseres wat gesien het wat die gedwonge verskuiwings beteken: 'Die hartseer van die forced removals was daai community wat opgebreek is' (bl 45); Boeta se broer, Lambert, wat Miss Girlie sy hele lewe lank liefgehad het, en eindelik die een word wat die geskiedenis van die plaas en sy mense op skrif stel; en Let, Boeta se vrou. Hulle dogter, Magriet, se stem word deur briewe gehoor."

Vir Cilliers is Trek ’n leeservaring wat haar tevrede gestel het en wat die leser dieper laat nadink.

Annemarié van Niekerk (Rapport, 5 Mei 2013) beskryf Trek as ’n roman met ’n interessante struktuur. Dit kan toegeskryf word aan die feit dat dit nie chronologies vertel word nie en dat dieselfde gebeurtenis uit verskillende oogpunte vertel word. "Die wisseling in die verskillende linguistiese registers ondersteun die perspektiefwisseling. Dit tesame met Rust se empatiese en humoristiese vertelstyl dra by tot die polsende lewensgetrouheid van die karakters. Deurgaans waak Rust teen stereotipering. Wat soms effe pla, is dat die geskiedenis plek-plek 'sigbaar' bygewerk word.

"Hoewel Rust se roman veel kompakter en minder ambisieus is as Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena, sou Girlie binne ’n groter opset tot ’n soort bruin variant van die Poppie-verhaal kon uitgroei. Girlie en haar mense se storie is beperkter, meer gelokaliseerd, maar Poppie en Girlie se verhale sou susterstories kon word. Juis hier lê Rust se narratiewe kwaliteit: om verbande en dialoog te skep tussen karakters, gemeenskappe en historiese tydperke."

In 2005 is Winnie en haar man, Manie, aangewys as die Rapportryers se Wellingtonners van die jaar. Hulle is vereer vir hul betrokkenheid en bydraes op verskillende terreine.

Tydens 2008 se Woordfees is twee eenvrouvertonings wat deur tragiese gebeure geïnspireer is, opgevoer. Albei stukke is deur Winnie Rust geskryf en Juanita Swanepoel was die regisseur.

Marianne Kitching vertolk die rol van Alexa Kirsten in die eerste stuk, ’n Venster vol son. Kirsten was die buurvrou van Lisbé Smuts-Smith wat op 7 Februarie 2005 in haar huis in Wellington vermoor is. Alexa het haar gaan help en is self wreed aangerand en vir dood agtergelaat. Die stuk beeld Alexa se verhaal uit en haar tydsame pad na gesond word, asook haar geloof en uiteindelike vergifnis.

In die tweede stuk, ’n Mens is ’n mens ..., is Estie van Heerden te sien in die rol van Marie Aggenbach, ’n ­inwoner van Winterbachstraat, Carletonville, “’n plek waar die ordinary en die poor people bly in sulke klein opslaanhokkies”. Theresa, Marie se dogter, het vyf kinders by vyf mans gehad en Marie moes na hulle kyk, tesame met haar eie, sowel as haar oorlede suster se drie kinders. Nadat Theresa aan vigsverwante oorsake oorlede is, neem Marie vigswesies by haar in en versorg hulle met groot liefde en deursettingsvermoë. (Die Burger, 25 Februarie 2008)

Op 11 Mei 2016 is Winnie Rust in haar huis op Wellington vermoor terwyl haar man in die slaapkamer geslaap het. Nigel Plaatjies, ’n 18-jarige jong man wat in 2015 aan die Hoërskool Hugenote op Wellington gematrikuleer het, is later saam met sy 34-jarige oom, Johannes, in hegtenis geneem vir hierdie misdaad. Nigel Plaatjies was ’n baie goeie atleet en een van die uitblinkerleerlinge vir wie Winnie Rust finansieel ondersteun het.

Winnie se begrafnisdiens op 20 Mei 2016 is waargeneem deur ds Lettie Buchner en ’n vriendin, Eugenia Wiggens, en haar broer, Chris van der Merwe, was die enigste ander sprekers tydens die diens. Die Hoërskool Hugenote se skoolkoor het ’n Xhosalied aan Winnie opgedra. Winnie was tot haar dood aan die skool verbind, waar sy verskeie leerlinge finansieel gesteun het. Begrafnisgangers het ’n erewag gevorm en blomblare oor haar kis gestrooi.

Huldeblyke

  • Eugenia Wiggens: "Winnie Rust het tot en met haar dood gehelp om die kloof tussen verskeie rasse en mense van verskeie agtergronde op Wellington te vernou. Die gemeenskap sukkel nog om sin te maak van die sinneloosheid van haar dood. Sy het ’n hart vir Wellington en al sy mense. Sy het haar hand en hart oopgemaak vir die gemeenskap. Min mense kon hul woorde so kies soos sy." (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Manie Rust (in ’n spesiale gedenkboekie): “Jan Rabie het gesê: Sonder Afrikaans is ek niks. Sonder Winnie Rust is ék niks.” (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Een van haar dogters, Helena Reid, het geskryf: “Ek vat elke tou waarmee hulle jou gewurg het en gee jou ’n string pêrels gemaak van blink oë vol liefde van almal wat vir jou omgee ... Ek ruk die pleister van jou mond en jy sing soet saam met kwikkies en tinktinkies.” (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Chris van der Merwe: "Sy het altyd moeite gemaak om die familie bymekaar te kry en ons het gedurig kontak met mekaar gehad. My suster was ’n vrou met baie fasette wat ’n wonderlike balans tussen haar skryfwerk en gesinspligte kon handhaaf. Sy was ook ’n vrou wat diep gelowig was en elke dag met stiltetyd en gebed begin het. Dit was haar roetine.” (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Lettie Buchner, leraar: “Winnie het gehou van stilte, klassieke musiek en lig. Uit haar lewe het net lig gekom." (Die Burger, 14 Mei 2016)
  • Suzette Kotzé-Myburgh: "Winnie was ’n voorvrou. Van Wellington, spesifiek. Bolandse Boereadel. En sy was ’n scholar, in die outydse sin van die woord. (...) Winnie Rust kon die innerlike lewe, die binnewêreld van ’n karakter, uitbeeld soos min ander – haar taalgebruik fyn, haar beskrywings ontroerend. Dít is ook wat haar beweeg om te skryf, het sy gesê: dat sy ontroer moet wees deur iets. (...) Winnie was by uitstek ’n meelewende mens en ’n gemeenskapsmens. Wat ’n bitter ironie dat Winnie in soortgelyke omstandighede moes sterf (as Lisbé Smuts-Smith), watter ontsettende verlies. Haar plek in haar huis en haar dorp en in ons literêre wêreld is leeg, maar die herinneringe en haar boeke bly – dit bly." (LitNet)
  • Cecile Cilliers: "Winnie was ’n geliefde vriendin, ’n geesgenoot. 'Verslae' is ’n toepaslike woord. Meelewing en troos haar familie toegebid." (LitNet)
  • Anette van der Spuy: "'Ouma Winnie' was vir die eerste paar jare van my kinders se lewe vir hulle soos 'n spesiale-geleentheid ouma – hulle boesemvriende in die huis langsaan was gelukkig genoeg om haar as regte ouma te hê, en my twee het die lekker gehad om dan soms saam te gaan kuier in Wellington. Hulle onthou nou nog die betrokkenheid; die stappies tweede tol toe, die konserte by die huis, die ou karavaan in die tuin, spesiaal ingerig vir die kleinkinders om ook te kan speel, haar lekker mieliepap met die baie suiker. So 'n wonderlike en warm mens. So 'n onsinnige einde." (LitNet)
  • Lizette Murray: "Wanneer ek die berigte sien en na die foto's kyk, weet ek dat dit waar is, maar in my gedagtes leef Winnie Rust. Ek sien haar in die wintersonnetjie in haar dogter, Winnie, se huis sit, kop effens skuins soos sy luister. Wanneer sy praat, weeg sy haar woorde. Ek onthou 'n oggend toe 'n klompie van ons saam met haar op 'n 'Martha-stap' deur Wellington gegaan het en kon hoor en sien waar haar Wellingtonkarakters leef en geleef het. Sy ontvang ons by haar aan huis. Dis 'n feesmaal. Ook 'n gedagtenismaal. Dit was goed om Winnie Rust ’n bietjie te kon ken." (LitNet)
  • Rensia Robinson: "Vandag, presies een maand gelede op 13 April, stuur ek vir Winnie die volgende wense vir haar verjaarsdag die volgende dag: 'Saam met jou geliefdes vier ons graag jou verjaarsdag omdat ons bly is oor jou. Soos die jare vermeerder, word die betekenis en inspirasie van geesgenote net groter en die waarde van elke geleentheid vir van hart tot hart gesels al kosbaarder. Hoe graag sou ons dus meer sulke goue ure met jou wou deurbring ...' Die 'afsluit-gedagte' van my skrywe lui soos volg: (Spreuke 22:12) 'Die Here sorg dat die regte insig behoue bly.' Soos ons albei weet, vra dit die gevoelige oor. Ons bede vir jou nuwe jaar is dat jou talent hiervoor jou rykdom en vreugde sal wees, sowel as die verryking van jou vriende/geliefdes.'
    Winnie se 'woorde' bly die koestering midde-in die hartverskeurende 'afwesigheid'. Ek hou haar styf in my gedagtes-oog vas terwyl ek haar geliefdes toevou met liefde en simpatie.
  • Magda Kotzé: "My onthou gooi die volgende draai ... Ek was Winnie se buurvrou vir 22 jaar. Derdelaan 12 in ons geliefde Wellington. Saam met Manie, die kinders, kleinkinders, en die hele Wellington is ons harte stukkend ... stukkend ... stukkend. Sy was die een wat ons met die gasvryste skinkbord tee en koekies verwelkom het in die Boland. Met tyd en gesels oor haar liefde vir ons taal het sy eendag opgemerk: 'Magda, jy roep nie skryf nie, skryf roep jou ...' (...) Baie spesiaal was ons Sondae-aande saam as ons in die Kollege se ouditorium met Ds Fanie Marais se aanddiens vol diep emosie ’n kersie brand vir ons geliefdes. Willem se geselsie met haar as sy en Manie met die honde gaan stap het, sal ons altyd bybly. Winnie was die buurvrou wat ons kinders sou voorkeer en inspireer met ’n vinnige geselsie, altyd die scholar, om te hoor van Jac, Alana en Maree se doen en late. ’n Mens met tyd en empatie vir almal. Sy het een jaar onder in haar tuin by die groot boom, met die kleinkinders se swaai, die hele erf toegesaai met groot warm rooi poppies ... indrukwekkend skildermooi. Sy sal ons altyd bybly ... adel voorwaar." (LitNet)
  • Danie, Oude Westhof: "Dit is verskriklik dat mense in hul huis vermoor word. Maar dat ’n weldoener soos Winnie Rust so uit haar gemeenskap geruk moet word, maak dit skokkender. Sy was ’n fyn en volronde mens wat vir haar medemens omgegee het – vir almal, van die vernaamstes tot die nederigstes. Sy het dekades lank ’n ryke en veelsydige rol op Wellington gespeel. Sy was ’n omgeemens wat swaarkry help verlig het. En sy het die kultuurlewe verryk – ook as skrywer. Dit is pynlik dat juis ’n vriendelike, bekwame mens op so ’n skokkende manier weggeruk word en nie tevrede haar interessante vaarstroom kon betrag nie." (Volksblad, 18 Mei 2016)
  • Janita Holtzhausen van Human & Rousseau-uitgewers: "Winnie Rust was ’n saggeaarde en wyse mens, nederig en beskaaf. Haar deernis en respek vir mense, ongeag ras, stand of agtergrond, is in haar romans en verhale sigbaar." (Volksblad, 13 Mei 2016)
  • Rachelle Greeff: "Ek kan aan geen woord of sin dink om iets te sê oor wat in die Breytenbach-sentrum-gesin en groter Wellington-familie gebeur het nie. Ek wil vanoggend (gisteroggend) soos Ryk Hattingh ’n huilboek skryf. Nie van ’n ander land nie, maar van net hier, ons land van moordenaars, vermoordes en verminktes. Vanoggend sien ek niks anders raak nie. Maar my oë sal weer sag word, ek weet.” (Volksblad, 13 Mei 2016)
  • Mellétta Louw, ’n vriendin: "Daar waar ’n saak is wat die dorp kon bevorder, daar sou jy vir Winnie kry. Sy het ’n fyn oog vir onreg en die beleweniswêreld van die vrou gehad. Sy was nie ’n mens wat op podiums of in koerante oor ’n saak sou veg nie, maar het dit op haar sagte manier op papier neergelê. Sy het kinders gehelp om hul skool- en universiteitsgeld te betaal sonder dat enigeen daarvan geweet het, want dit is wie sy was.” (Volksblad, 13 Mei 2016)
  • Anne-Ghrett Erasmus, die bestuurder van die Breytenbach Galery: "Om hierdie baie besonderse mens te beskryf, is so maklik en tog ook so moeilik as gevolg van haar geweldige teenwoordigheid en bydrae op soveel vlakke. Nie net was sy deur en deur ’n dame, raakvatvrou, grapjas met ’n skerp intellek, vrou vir haar man, moeder vir haar kinders, ouma vir haar kleinkinders, skrywer nie, maar ’n rots so groot soos die Hawekwa vir soveel mense en instansies." (LitNet)

Publikasies

Publikasie

Deur die liefde aangeraak: gedagtes rondom die Christenvrou vandag

Publikasiedatum

1983

ISBN

(sb)

Uitgewers

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Godsdienstige publikasies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Martha, ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess van Stamford

Publikasiedatum

2004

ISBN

0620324767 (sb)

Uitgewers

Hermanus: Hemel & See Boeke

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Margie van die Seminary en ander verhale

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798152617 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Trek

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798159333 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Winnie Rust as medeskrywer:

  • Bainskloof- en ander bergstories. Wellington: Wellington Museum, 1999 (vertaal in Engels as Bain's Kloof and other mountian tales)

Winnie Rust as samesteller:

  • Cupido, Charlotte: Vra na die ou paaie, 2003
  • ’n Lewe suid van Markstraat (saam met Herman Bailey). Wellington: Wellington Museum, 2013
  • Vrouedagstories, 2004

Artikels oor Winnie Rust beskikbaar op die internet:

Artikels deur Winnie Rust beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Winnie Rust (1939–2016) appeared first on LitNet.

Adam Small (1936–2016)

$
0
0

Gebore en getoë

Adam Small is op 21 Desember 1936 in Wellington in die Boland gebore. In 1937 trek die gesin na Goree, ’n buitewyk en sendingpos aan die Vinkrivier buite Robertson, waar sy pa, John Sylvester Small, meester was van ’n eenmanskool vir die kinders van die plaaswerkers. Hierdie wye, oop ruimte van sy vroeë kinderjare het ’n blywende indruk op Adam gelaat. Sy pa was ook Sondagskoolonderwyser en sy eerste skryfpogings was toneelstukkies vir die Sondagskool, wat die klassie dan opgevoer het. Adam het een suster, Mona.

“Ek was seker vyf, ses jaar oud. My pa het my altyd op sy huisbesoeke saamgeneem en Sondae het hy vir daardie stowwerige mense van die plaas kerk gehou. Daar is die woorde in Goree wat Daniel Hugo so prágtig vertaal het in Afrikaans. Daar sê ek: ‘En hy het hulle opgedra aan God en wanneer hy met God vir hulle ingestaan het, het ’n wonderlike ding gebeur ... en het hulle dit besef. Dit was nie nodig vir hulle om vir God báás te sê nie.’” (Aan Murray la Vita in Beeld van 13 September 2013)

Adam het tussen twee kulture grootgeword: in sy vormingsjare is hy in die huis van sy vader met sy Gereformeerde geloof en die Moslemhuis en Islamitiese geloof van sy moeder, ’n nooi Suleiman (hulle kon nog tot ’n mate Arabies hanteer). So is sy ouerhuis ’n huis van versoening, en dit is as gevolg van die invloed van beide sy ouers dat gemeenskapswerk ’n belangrike rol in die Small-huishouding speel, wat in Adam se latere lewe weerspieël word.

Einde 1944 verhuis die gesin na die Kaapse vlakte by Retreat, waar Adam se vader sy onderwysloopbaan voortsit in die NG Sendingskool en nou “meester” was vir die werkersklaskinders van daardie gebied. Sy vader was ook steeds betrokke by die kerk as diaken, later ouderling en ook as skriba, en Adam vergesel weer sy pa op sy rondes onder die armes en eenvoudiges. So leer Adam as kind ook die stedelike soort armoede van die Kaapse Vlakte ken, na sy vroeëre belewing van die plattelandse armoede van Goree.

Hulle het ’n gelukkige huislike lewe gehad. “Ek weet nou hoe my ouers ons teen die vernederings van ’n ongelyke maatskappy waar ons aan Klaas se kant was, al was Baas dan ook hoe ongekultiveerd, beskut het.” (Beeld, 4 November 2012)

Hy vertel aan Helize van Vuuren in Tydskrif vir Letterkunde, 2012: “Goree het my gemaak. Toe ek my sinne kom kry, was my pa die een enkele meester van daardie mense. Van Wellington, waar my ma ook vandaan gekom het – ’n Moslemvrou. Vakansies het ek daar in twee huise tuisgekom, die baie formele soort Calvinistiese NG Sendingkerk huis van my pa, en my oupa Adam. Ek was baie klein toe hy dood is. Hy was ’n tuinier, ’n baie indrukwekkende man, en my ouma Nellie.

“Die huis in Wellington was my geboortehuis, Terracestraat 12 (vandag 23). Die huis het eintlik behoort aan my oom Ernest – sy hele gesin het in die sestigerjare na Kanada geëmigreer. Hulle het die huis daar moes prysgee, het vir ’n ruk lank Kaapse Vlakte toe gekom, en is toe weg Kanada toe. Hulle Afrikaans het behoue gebly – twee of drie keer teruggekom vir vakansie – net buite Toronto gewoon, sneeu. Ek het hulle gaan ontmoet by die Niagaravalle. Hy kon nie oor die grens kom nie, en ek moes oor die grens. Hy was ’n NG dominee, maar hy het net oorsee gegaan, want hy het teen apartheid gepraat. Ek het in daardie jare daaraan gedink om weg te gaan.

“Ek het in daardie twee huise dan tuisgekom in die vakansie. My ma se van was Suliman … My oupa van ma se kant het ek nooit geken nie. Hy was ’n Indiër van Bombaai, eerste generasie hier … en met ’n wit, half-bruin vrou getroud – klomp Ierse bloed aan daardie kant. Die oupa was ’n denker. Hy’t hier ’n besigheid begin, en het op ’n tyd elke kafeetjie en winkeltjie in Wellington besit, maar hy’t agteruit geboer. Alles was later onder hulle uit. My ma was die geliefde dogter, want sy het boeke gelees. My suster is so twee jaar jonger as ek.

“Op Goree – dis vrek eensame wêreld, ons het nie vervoer gehad nie, die Kaap was destyds ver weg – het my ma vir ons boeke ingekry en vir ons stories gelees. Sy het vir ons gelees Die Arabiese nagte. Dit spook nog altyd by my. In my ma-hulle se huis was daar die reuk van miang, wierook en kerrie ook, die djirrah (die spesery-deel van kerrie, ’n byvoegsel, met ’n baie spesiale soort van geur en smaak). Die huis het altyd daardie geur gedra. Baie spesiaal.

“My pa het sy mense baie lief gehad, so ’n soort onderwyser-dokter wanneer hulle siek was. Vertrooster, raadgewer, en wanneer hulle doodgegaan het – meestal van die tering, omdat hulle baie gedrink het – het hy my saam gevat na die begrafnisse, en hulle teruggesit in die grond waaruit hulle gekom het. Dit was nog voor apartheid amptelik gekom het, maar apartheid was al ’n werklikheid. Miskien was ’n mens nog werklik te jonk, maar ek het altyd die vraag gevra, “Wat beteken die lewe vir mens wat uit daardie grond gekom het, en weer in daardie grond terug gesit word?” Die ou ballades is, soos Lewin Muir sê, beyond opinion – jy vra nie is dit ’n goeie gedig nie. Dit vertel jou van ’n lewe tragically accepted.

“My pa was daardie soort mens wat dit tragies aanvaar het, ek is nie die soort mens wat tragies aanvaar nie. My ma het dinge sinies aanvaar. Ons het baie vasgesit, maar ons was baie naby aanmekaar. ’n Paar minute voor sy sterf, het ek oor haar gebuig, en toe het sy drie keer vir my gefluister: “Ek is nog wakker, ek slaap nog nie.” Dit het my heeltemal gegooi. Ver oor die sewentig. Na aan tagtig.

“Ek het daardie soort half-landelike armoede daar leer ken: die meeste mense was plaasarbeiders en het in die kombuise gewerk. G’n beskerming nie – mense onder God se blou lug. In een klaskamer kon jy van sub A af kry tot by minstens standerd 4 ... het my pa klasgegee. Jare daarna het ek die skooltjie besoek, met ’n ou register in my pa se handskrif – en toe het hulle dit vir my gegee. Baie keer as ouens so kla oor gebrek aan fasiliteite, dink ek daaraan wat gedoen kon word. Daar was tye wat hy onder die ou doringboom moes klasgee. Dis nie die fasiliteite as sodanig wat die verskil maak nie, dis die mense wat die les gee. Dis belangrik vir my werk dat ek die
gevoel vir die underdog daar ontwikkel het.

“Ek was standerd 2 klaar toe ons daar weg is, nege jaar oud, My ma het nooit formeel gewerk nie, sy het ‘aan ons gewerk’ ... Toe is ons Kaap toe, hier in Retreat het my pa ’n groter skool kom behartig, en ook betrokke geraak by die dinge van die kerk. Huisbesoek was ’n groot ding oor naweke, en ek het die nuwe grond, die nuwe duinegrond leer ken, wat bly skuif en verskuif … Anders as daai vaste grond. Daar roer iets baie spesiaals in my wanneer ek die duinegrond hier van die Kaapse Vlakte, wat bly verskuif, ervaar. ...

“Toe het my pa my hier na ’n Katolieke skool gestuur. Van standerd 6 af. Eers by die Dominikanernonne, en van daar af standerd 7 by die Immaculata-skool. Toe is ons seuns na die Christian Brothers. My pa was ’n baie liberale soort mens. Ek het vrae gevra: sy motief was, vind maar uit vir jouself, gaan leef saam met die mense. Dit was ’n wonderlike opvoeding saam met die Katolieke. O’Farrell was my prinsipaal, een van die grootste onderwysers wat ek ooit gehad het: St Columba Christian Brothers in Athlone. Kleinerige skooltjie, maar hy was ’n wonderlike mens. Ek was in 1953 in matriek. Totale toegewyde onderwysers was daardie onderwysers. Dit was hulle taak – om as onderwysers op te tree, daardie orde. Die Katolieke Aartsbiskop van Kaapstad, Roberts Henry, was saam met my in matriek. Hy was altyd die ou wat die vensters met ’n stok oopgemaak het: hy maak vandag nog die vensters vir God oop. Daar het ek ook vir SV Petersen ontmoet: ek het altyd die grootste waardering vir hom gehad. Ons het later vriende geword (hy was toe ’n skoolhoof daar naby). Hy was baie verbitter. Sidney was ’n groot voorloper en baie onderskat. Ons letterkunde word nog maar altyd uit ’n wit hoek bedryf, veral ook die kritiek. Hy is ’n onderskatte, onderwaardeerde digter. Sy bydrae was eenvoudig enorm. Die impak wat dit behoort te gehad het, het dit nie gehad nie.”

Hoewel Adam in ’n gereformeerde huis grootgeword het, het die simbolisme en “atmosfeer” van die katolieke kerk hom sterk aangetrek. Sy suster, Mona, is ook na ‘n katolieke skool. Hulle albei het so goed presteer dat die inspekteur gesê het Adam se onderwyser kon Adam se vraestel gebruik vir sy memorandum.

Op skool was ’n hele paar mense wat ’n groot invloed op Adam se lewe gehad het: suster Pascal, wat hom Latyn probeer leer het, en broeder O’Farrell, wie se integriteit as mens en as onderwyser Adam altyd sal bybly. Adam se seun, Peter John, matrikuleer einde 1992 aan dieselfde St Columba-skool en einde 1990 matrikuleer Zaidee, sy dogter, aan die Dominikanerskool Immaculata, waar suster Pascal vir Adam probeer Latyn leer het.

Verdere studie en werk
In 1954 begin Adam sy universiteitsjare as mediese student aan die Universiteit van Kaapstad, omdat hy in die apartheidsjare nie aan ’n Afrikaanse universiteit mag studeer het nie. Dit is egter gou vir die jong Adam duidelik dat medies nie sy rigting is nie en na ’n frustrerende eerste jaar skakel hy oor na filosofie en taal, waar hy meer tuis voel. Sy dosente is onder andere DJ Opperman, Boerneef en Marthinus Versfeld. Saam met hom studeer ook sy latere vriend, Vernon February.

Hy vertel verder (Tydskrif vir Letterkunde, 2012): “As ek moes prakties doen, het ek die filosofieë en briewe van Pous Pius die XIIde gelees en my kop daaroor gebreek. Voor ek universiteit toe is, het ek Barkley se Theory of Vision gelees, wat ’n ou onderwyser vir my gegee het. Toe het ek agtergekom dat ons sieninge ook maar twyfelagtig kan wees as ons nie ons oog of oor daarop het nie. Toe is ek filosofie toe: een van die groot onderwysers wat ek gehad het, was SIM du Plessis. Opperman en Boerneef in Afrikaans, Canis Scholtz was ook daar in Afrikaans. Einde van die eerste jaar het ek fisika geslaag – tot vandag toe hou ek daarvan om daardie goed te lees. Toe kom ek by ’n tafel uit, en dis toe die filosofiedosent wat daar sit: toe seg hy vir my: ‘Small jy’s ’n filosoof!’

“In die eerste jaar het ek al die boertjies geklop en die klasprys gekry vir Afrikaans. Ou mev Bax was ’n dosent, toe gebruik ek ’n doodgewone Afrikaanse woord, ‘tob’, wat haar verbaas het. Effens patroniserend. Filosofie en Afrikaans. Ek het die eerste jaar verloor, toe moes ek my filosofie-kursusse so kies, so stapel, dat ek die derdejaar saam met die ander klaarkry. Ek het honneurs en MA gedoen – oor Nietzsche: ‘Nicolai Hartmann’s appreciation for Nietzsche’s axiology’. Ek het destyds ook Duits gehad. En my tesis in Engels geskryf.”

Einde 1956 behaal Adam sy BA-graad in etiek en logika en metafisika met onderskeiding en in 1957 sy honneursgraad in filosofie, ook met onderskeiding. Dit is ook in 1957 dat sy eerste bundel, Verse vir die liefde, by Culemborg verskyn. Hy verwerf sy MA-graad, ook met onderskeiding, in 1962 onder SIM du Plessis oor die Duitse aksioloog Nicolai Hartmann se waardering vir Friedrich Nietzsche. Hy verwerf twee beurse en met een vertrek hy oorsee, waar hy aan die Universiteit van Londen se London School of Economics met die wetenskapsfilosoof Karl R Popper as dosent studeer. Die aanpassing daar was uiters moeilik.

Met sy terugkoms in Suid-Afrika is hy vir ’n baie kort tydjie onderwyser in Wellington, voordat hy in 1959 aangestel word as lektor in filosofie aan die Universiteit van Fort Hare. Begin 1960 is hy een van die eerste 13 personeellede van die nuutgestigte Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) toe hy aangestel word as dosent in en eerste hoof van die Departement Filosofie. In 1966 word hy as medeprofessor in filosofie aangestel.

In Desember 1959 trou Adam met Julia Anne Elizabeth Engelbrecht en uit die huwelik is twee seuns, Jannie en Leon, gebore. Adam en Julia is egter in 1968 geskei en in 1969 trou Adam met Rosalie Joan Daniels. Hulle het ook twee kinders, Zaidee en Peter John.

In 1963 vertrek Small na Oxford in Engeland met ’n British Council Scholarship vir gevorderde navorsing in die morele filosofie. En dit is hier waar die eerste idees vir Kanna hy kô hystoe hulle beslag kry. Intussen verskyn Klein simbool (1958), Kitaar my kruis (1961) en Sê sjibbolet (1963).

Met verwysing na Klein simbool, waarin Small volgens Johan Rademan “’n paar prosatekste en spreuke geskryf het wat dalk ’n nuwe gedaante met Small se biografiese aantekeninge kan aanneem”, het Adam die stelling teenoor Rademan gemaak: “Ja, jy weet ek onthou van die dinge in Klein simbool. Iewers sê ek, as ek reg onthou: Daar is twee soorte mense. Die gelowiges en die ongelowiges is die een soort en die ander [soort] het lief” (Beeld, 4 November 2012).

In sy omdigting van 1 Korinthiërs 13 in die Nuwe Testament in Klein simbool skryf hy: “Al sou hierdie land myne wees, en al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net met sy armoede. / Al sou hierdie land myne wees, en al sy godsdiens, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne sonder God. /.../ Toe ek ’n kind was , het ek gehaat soos ’n kind, maar noudat ek ’n man is het ek lief soos ’n kind. / As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde.”

In Adam Small se werk is daar baie Bybelse verwysings en kruisverwysings. Daaroor het hy aan Rademan (Beeld, 4 November 2012) gesê dat hy met die Bybel grootgeword het “en later begin ’n mens dink oor die dinge. Daar is baie dinge wat vir my so kontradiktories is wat die Bybel betref en tog bly dit ’n groot, groot boek met so baie stories. Die Bybel is vir my die heel belangrikste boek wat ook die sterkste invloed op my letterkundige werk gehad het en wat my die sterkste aangegryp het.

“Daar is die twee gedigte – ‘Second coming I’ wat ’n baie belangrike gedig is [verwysend na sy satiriese gedigte wat op die wederkoms van Christus dui] – miskien een van my grootste gedigte na my mening, en ook ‘Second coming II’. Die werke is (...) godslasterlik genoem. Dis allesbehalwe. En die begrip godslasterlik maak in elk geval vir my nie sin nie (...). Eenvoudig omdat hoe moet ons weet wie of wat God is en of Hy bestaan? Dis groot dinge daardie.”

Oor sy “heiligskennis” het Adam Small met Ronnie Belcher in Gesprekke met skrywers 2 gesels: “’n Klag teen my poësie uit sekere oorde is, of was, dat dit godslasterlik sou wees. Die waarheid is egter dat baie van my satiriese verse godslastering wil uitwys en ontmasker – dit wil die skynheilige vroomheid van die mense omdop sodat die waarheid daarvan, deur die spot wat ek daarmee dryf, in die lig kan staan, naak en onverdoesel. Ek wil godslastering aan die kaak stel, net soos ek die onregverdigheid aan die kaak wil stel.”

Hy het bygevoeg dat die kunstenaar nie in diens van die politiek of enige sosiale gelowe of gelofies is nie – selfs nie eens as satirikus nie. ’n Kunstenaar se trou lê by sy gewete.

Rademan het dit aan Small gestel dat Sê Sjibbolet (1963) “’n kruispad in die letterkunde in Suid-Afrika” verteenwoordig – “hierdie bundel wat die vorme van Afrikaans teenoor mekaar gestel het, maar ook sprekers van Afrikaans ” (Beeld, 4 November 2012), waarop Small geantwoord het: “Sê Sjibbolet is baie na aan my hart, net soos Kitaar my Kruis.

Die gedig “Sê Sjibbolet” is gebaseer op Rigters 12:5 in die Ou Testament: “Die manne van Gilead het die Jordaandriwwe na Efraim toe beset, en wanneer ’n Efraimitiese vlugteling sê ‘Ek wil deurgaan’, sê hulle vir hom: ‘Jy is ’n Efraimiet.’ As hy sê: ‘Nee, ek is nie’, sê hulle vir hom: ‘Sê bietjie Sjibbolet’, maar dan sê hy ‘Sibbolet’, want hy kan dit nie reg uitspreek nie. Dan gryp hulle hom en maak hom daar by die Jordaandrif dood.”

Sê Sjibbolet (Rigters 12)

Sê Sjibbolet
djulle ammal, djulle,
djulle wat sê djulle het
die Here,
djulle wat sê djulle is gared,
...
en glo djulle hoef is vet
moet olie vannie Here,
...
sê net!
want ons wil wiet
wie’s Gileadiet,
wié’s Efraimiet,
wie veg regdeur tot by Minniet
en wie is riet
en wie moet staan
en wie kan gaan
deurie driwwe vannie Dood
ennie Jordaan
...
nai?
ôrait,
ma sê net,
sê net Sjibbolet!

In 1961 verskyn ook Die eerste steen?, ’n bundel sosiopolitieke essays oor die bruin/wit Afrikaanse verhoudingskwessie. In ’n brief aan Small het Van Wyk Louw gesê dat hy dit “eers met belangstelling en later met ontroering” gelees het. Op die skutblaaie van Klawerjas (2013) is hierdie handgeskrewe brief wat NP Van Wyk Louw op 17 Julie 1961 aan Adam Small geskryf het nadat hy Die eerste steen? gelees het, afgedruk. Die gedig “Klawerjas” is ook aan Louw opgedra. Small vertel aan La Vita (Beeld, 13 September 2013): “Van Wyk Louw was ’n gróót, gróót denker. Indien hy in enige ander taal geskryf het, sou hy die Nobelprys gekry het. Ek dink hy is een van die grootste denkers ter wêreld. En die nederigheid van die man ... In daardie brief vra hy die vraag: ‘Wat kan mense soos ons in hierdie tye doen? Ons kan maar net praat, want ons is nie mense van geweld nie.’ Daar’s niks wat ons met geweld kán of wíl regkry nie.”

Met verwysing na Die eerste steen? het Small ook gesê: “[Dit is ’n] uit die hart geskrewe boekie oor my ervaring in die apartheid-opset ... Ek mag hoop dat die religieuse toon van die boek mense kan oortuig ... dat hierdie skrywer skaars tot godslastering in staat is!” (Beeld, 4 November 2012)

In 1965 keer Adam terug na Suid-Afrika en word Kanna hy kô hystoe gepubliseer.

Vir Small is Kanna ’n werk van formaat wat deur die jare oor en oor bevestig is. “Dit is ewige tematiek daardie. Ek het die woord ‘apartheid’ nie een keer in Kanna gebruik nie. Ek sien dit nie as protesliteratuur nie, maar as literatuur van waarneming en sosiale kritiek. Dit gaan ook oor verstedeliking en die gedwonge verskuiwing van mense en gee insig in die universele werklikheid van armoede by ons,” sê hy in sy onderhoud met Johan Rademan.

Temple Hauptfleisch was betrokke by die eerste professionele opvoering van Kanna hy kô hystoe in Bloemfontein. “In die hart van die Vrystaat, in diep apartheidsdae, toe die skrywer self ’n permit moes kry om vir meer as 24 uur in Bloemfontein te kan bly en alleen moes sit om na ’n repetisie van sy eie stuk te kyk. Dit was ongelooflik roerend en die teks is nog steeds vir my een van die grootste teaterwerke om uit ons bodem te ontstaan.” (Die Burger, 8 Mei 2012)

Die ander twee dramas in die drieluik, Joanie Galant-hulle (1978) en Krismis van Map Jacobs (1983) bekyk onderskeidelik gesins- en gemeenskapsgeweld.

Wilna Snyman vertel van die opvoering van Kanna hy kô hystoe met die inwyding van die Pretoriase Staatsteater in 1981. Vir die eerste keer is dié stuk met bruin akteurs opgevoer. Sy was die enigste wit speler.

“Die bruin spelers het my nie aanvaar nie, en ’n mens kan dit verstaan. Ek was verteenwoordigend van die wit apartheidsera, maar die regisseur, Louis van Niekerk, het vir my gesê hy’t my nodig om vir hulle as inspirasie te dien, want dis ’n moeilike stuk en hulle is nie professionele spelers nie.

“Met die openingsaand was ons almal verskrik, toe sê ek: ‘Kom na my kleed- kamer dat ons almal net kan saambid voor ons opgaan.’ Ek het hulle gelei in gebed, en toe sê die verhoogbestuurder: ‘Staan gereed’ en ek stap laaste die gang af. Toe ek deur daai verhoogdeur stap, staan daai groep spelers weerskante van my, en soos hulle deurstap, raak hulle met hul vingerpunte aan my en hulle fluister: ‘Makiet! Makiet!’

“Ek dra dit met my saam as ’n kleinood. Dit was wragtig een van daai spesiale oomblikke in die teater, want jy voel hier het iets baie groter gebeur as ek, en ek was deel daarvan.” (Die Burger, 21 Oktober 2011)

Met die opvoering in 2003 van Kanna by die destydse Technikon Skiereiland het Danie Botha na die geskiedenis van die stuk gekyk (Die Burger, 13 Februarie 2003): “Is dit wys om ’n toneelstuk as boek te laat verskyn voordat die teks ‘tot lewe’ gebring is op 'n verhoog – verkieslik deur professionele teaterlui en met resensente se toejuiging? Kanna hy kô hystoe deur Adam Small is ’n voorbeeld van uitgewers se beleid om wel onopgevoerde toneelwerk te publiseer. Dit was veral die gebruik voor die jare tagtig. Daar was één kritikus wat sou gesê het: Dis dwaas.

“Dit is 27 Desember 1964. JD Pretorius, hoofbestuurder van Tafelberg-Uitgewers, skryf met kenmerkende geesdrif aan Adam Small: ‘Ek was skoon opgewen van verwagting nadat ons vanoggend oor u drama gesels het. Baie dankie dat u dit na ons uitgewery bring vir uitgawe. Ek waardeer dit.’ Op Maandag 18 Januarie 1965 om drie-uur sal hulle verder gesels. ‘Ek lus al om te proe aan die ding.’

“‘Die ding’ word in 1965, voordat dit op die verhoog uitgetoets is, gepubliseer as Kanna hy kô hystoe. Volgens ’n brief van die redakteur Berta Smit het ’n regisseur van formaat wel insette met die teksversorging gelewer: Robert Mohr.

“Maar op Vrydag 18 Februarie 1966 moet Small en Pretorius dié woorde van WEG Louw in Die Burger lees: ‘Toe ek Kanna hy kô hystoe uit had, het ek gewonder wat dit nou eintlik is. ’n ‘Drama’, soos die ondertitel dit beskryf, myns insiens glad nie. ’n Stuk vir die toneel dan? Ja, sekerlik, maar myns insiens nog geen toneelstuk nie. Dan eerder ’n soort ‘somber musiekspel’ oftewel tragiese musikale skouspel.

“Hy gee toe dat ’n mens die werk nie behoort te beoordeel volgens ‘skoolboekies en handleidings nie’. Rekening moet tog gehou word met al die ‘vreemde’ ontwikkelings in die moderne toneelwerk.

“Maar al die ‘trucs’ ten spyt, ‘bly die gegewe, vir my altans, onbevredigend skraal. ’n Simptoom daarvan is myns insiens die uitvoerige, beskrywende en soms ook werklik mooi ‘toneelaanwysings’.

“Hy kla dat die ‘Kleurlingstraattaal’ met ‘klanke wat ons almal sou ken as ons hulle hóór’ met Small se ortografie vir die oog vreemd bly. Die dramaturg maak die leeswerk vir hom ‘en talle ander lesers’ nie maklik nie. En Small moet uiteindelik verneem: ‘Ná die lees is ek baie skepties of dit op die verhoog iets sal wees.’

“Dan stel Louw egter die dilemma van letterkundige kritiek op drama, die genre wat moet werk as lees- en as teaterervaring: ‘Maar ek is in laaste instansie geen regisseur nie. Wat iemand wat die vak en elke greep van daardie orrel ken, van Kanna hy kô hystoe gaan maak en kan maak, sal my besonderlik interesseer.’

“Eers in September 1971 sou uitgevind word of dit iets op die verhoog is. Sukovs voer dit veertien aande lank op voor ’n volgepakte Klein Teater. Wanneer Adam ’n jaar later met Ronnie Belcher in Gesprekke met skrywers (Tafelberg, 1972) gesels, rebelleer hy teen ‘die soort dom maar hovaardige verontagsaming van Kanna’ wat meegebring het dat dit ‘meer as vyf jaar op die rak moes bly voordat dit by iemand opgekom het dat dit op die planke gebring kán word’. Hy het veral troos gevind in Juanna Hibbert van The Friend wat die verwantskap met Arthur Miller se After the fall aangetoon het en besluit het dat Kanna ‘a better play’ is, ‘with greater impact and sincerity, convincingly performed ...’

“Maar Kanna moes nog Kaap toe kom, dié stuk wat volgens Small ‘die beste werk is wat (hy) gelewer het en, al sê (hy) dit nou self, die beste insig ooit gee in ’n deel van ons Suid-Afrikaanse werklikheid en, natuurlik, in ’n deel van die universele werklikheid van die armoede hier by ons’.

“Hy self pak dit in 1972 met studente van UWK in die Nico Malan-verplegingskollege in Athlone aan. Op 15 Augustus verseker hy lesers van Die Burger dat hy met ‘rou amateurs’ en met minimale teatermiddele kritici verkeerd gaan bewys ‘waar hulle die toneelmatigheid van die stuk in twyfel getrek het’.

“Besadig skryf Victor Holloway op 2 September oor die opvoering. Hy noem dat dit ‘boeiende vermaak’ en ’n ‘paar hoogtepunte’ bied. Die lesers ‘kan gerus gaan kyk’.

“In 1974 is Pieter Fourie die regisseur van die eerste professionele Kanna in die Kaap, ná ’n suksesvolle Truk-aanbieding. Sandra Kotzé is Makiet en Cobus Rossouw Kanna. Op Maandag 25 November 1974 kon Adam Small verneem dat dit ‘’n toneelervaring is wat baie jare lank onthou sal word’.

“Aan die woord is WEG Louw: ‘Dis ’n verhaal hierdie van die eenvoudiges, die eenvoudigstes, die armes wat altyd daar sal wees – altyd. Kanna hy kô hystoe het die groot gehoor asemloos in die ban van dié wêreld gesit – stemme, beelde, stukkies van ou en nuwe liedjies, die geheel nie slegs ’n wrange kommentaar op die lewe van dié eenvoudiges nie, maar ook met ’n duidelike strekking wat ’n mens by tye aan die keel gryp en jou dan weer trane in die oë laat kry.

“‘Wat is dit wat 'n mens so boei? Bowenal die woord ... Nie alleen is die poësie (daarin) ontroerend en is die stuk verbasend goed in mekaar gesit nie; dit is terselfdertyd ’n integrale werk vir die eietydse teater, so eie aan die Kaap – én aan ons land – as die taal wat dié mense praat. Daarom, glo ek, is die geldigheid daarvan dan ook nie slegs plaaslik en beperk nie.

“Dan kom Louw met die hoë woord uit: ‘Ek herroep hiermee onvoorwaardelik die nogal hooghartige voorlopige oordeel wat ek sewe jaar gelede ná die eerste lees daarvan gevel het. Inderdaad het ek my gedek deur te sê dat ek in laaste instansie nie ’n regisseur is nie en nie sonder meer sou kon oordeel oor die uitwerking daarvan as dit goed geregisseer en gespeel word nie. Nou weet ek.’

“Vir Pieter Fourie se regie het hy net lof. Ook oor die spelers oordeel hy gunstig. Hy beskryf Sandra Kotzé se Makiet: ‘Algaande het die ou vrou met die ouderwetse kopdoekie in die ou rystoel uitgegroei tot ’n tenger maar byna heroïese gestalte ... Sy was 'n lewende werklikheid ... Daarmee het sy haar plek onder ons voorste aktrises ingeneem.’

“Met die 2003-opvoering behoort daar geen twyfel meer te wees oor die toneelmatigheid van Kanna hy kô hystoe nie. Ook nie oor die letterkundige waarde daarvan nie. Daaroor het kritici hulle oor die jare hoofsaaklik gunstig uitgelaat: Rob Antonissen, JP Smuts, JC Kannemeyer en veral André P Brink in sy Aspekte van die nuwe drama.”

In Kanna self kom daar geen spesifieke verwysings na die apartheidsbestel voor nie en dit het beteken dat Truk in 1974 Kanna kon opvoer met wit akteurs voor wit gehore as ’n voorbeeld van die “oorbrugging van die ras- en kulturele grense” (Die Burger, 3 Maart 2008).

Marina Griebenow skryf in Kanna, hy kô hystoe word daar gekyk na ’n groep mense wat hoop op verlossing in die verwagting dat wanneer Kanna terugkom, uitkoms sal geskied. Kanna self is in twee geskeur tussen die feit dat hy nie die hele stand van sake kan verbeter nie en sy eie ondervinding van ’n beter bestaan wat hy elders ervaar het.

Adam Small se enigste roman, Heidesee (1979), is ’n storie van aftakeling as gevolg van die regeringsbeleid van 1948 en Johan Rademan het in sy onderhoud ’n parallel getrek met Richard Llewellyn se How green was my valley. Small se reaksie was: “Ja, hoewel die storie sy eie gang gegaan het, was die gedagte om Heidesee te skoei op How Green was my Valley, maar die storie het sy eie loop geneem. Ek dink nog altyd dis ’n goeie stuk werk en ek het nog altyd gehoop dat dit miskien verfilm kon word. Ek dink baie swakker stories as dit is al verfilm. As ek kyk wat uit Hollywood uit kom elke dag is dit heeltemal belaglik hoekom dit nie ’n goeie storie op die groot doek of die klein doek kon word nie.

“En jy weet, dis wonderlik dat in Heidesee in daardie jare die mense van verskillende sogenaamde kleur by mekaar uitgekom het – wit, bruin – die mense wat Afrikaans was. En soms as ek sien [en] vandag hoor hoe die mense sukkel met hulle menseregte-fieterjasies, verstom ek my. Baie van dié dinge het lank reeds vorm gehad.”

Adam reis in 1971 na die VSA nadat hy deur Richard Nixon genooi is om die eerste White House Conference on Youth in sy persoonlike hoedanigheid by te woon.

In 1972 word hy benoem as lid van die senaat van die UWK en in dieselfde jaar bring hy Kanna self op die planke op die Kaapse Vlakte met ’n amateur-studentegroep, die dramavereniging van die UWK. Hierdie groep word later die Cape Flats Players en die opvoering staan vir Adam sentraal in die teatergeskiedenis van Kanna. In Junie 1974 word dit in die Alexanderteater in Johannesburg opgevoer en Truk moes ’n permit kry sodat Adam dit kon bywoon. In Oktober 1974 word Kanna ook in die Nico Malan-teater in Kaapstad opgevoer en besluit Adam om nie die openingsaand by te woon nie, omdat hy gekrenk is oor die kritiek dat die stuk, wat deur ’n bruin man oor bruin mense geskryf is, opgevoer word in ‘n teater waar bruin mense nie welkom is nie.

Adam voel hom in 1973 daartoe genoop om te bedank by die UWK in solidariteit met die studente wat gedwing word om van die kampus af pad te gee. Hy soek aanvanklik vrugteloos na werk. Hy word dan aangestel as direkteur van Witsco, die studente-gemeenskapsorganisasie van die Universiteit van die Witwatersrand.

Met die sloping van Distrik Ses sien Adam sy werk al meer as “’n gewete vir die land wat die verskynsel en praktyke van kolonialisme betref, apartheid inkluis, natuurlik, as vorm van kolonialisme. Ek maak die pers ’n belangrike medium vir my sosiaal-politieke kritiek.” So word Oos wes tuis bes: Distrik Ses in 1973 gepubliseer, met gedigte van Adam en foto’s van Chris Jansen. Later verskyn ook die Engelse teks met foto’s van Jansje Wissema.

In 1974 verskyn Black bronze beautiful: quatrains. Adam sê self: "Ek skryf nou meermale in Engels, nie omdat ek regtig wou nie, miskien nie eers omdat ek kon nie, maar weens die kulturele aardskudding wat my verhouding met my eie taal aldeur nog vir my was.”

Die gesin keer in 1974, ná slegs ’n jaar in Johannesburg, terug na Kaapstad. In hierdie tyd kry die drama Joanie Galant-hulle beslag, hoewel dit eers in 1978 gepubliseer word. Vanaf 1975 tot 1977 werk Adam vir Maskew Miller Uitgewery in Kaapstad en in hierdie tyd waag hy sy hand aan vertaling en verskyn die bundel Oh wide and sad land (1975), met gedigte van NP Van Wyk Louw. In 1975 word lidmaatskap van die English Academy of Southern Africa aan hom toegeken. In 1978 wys hy egter lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns van die hand.

In 1978 word Small aangestel as hoof van die Wes-Kaaplandse Stigting vir Gemeenskapswerk / Western Cape Foundation for Community Work (FCW), waar hy tot 1983 werk. Hierdie stigting spits hom veral toe op kinderwelsynwerk – ’n saak wat Adam baie na aan die hart lê. Gedurende hierdie tyd bekwaam hy hom professioneel en akademies as maatskaplike werker by Unisa.

Hy was in die sewentigerjare betrokke by SASO (South African Students’ Organisation) en in 1976, met die belangwekkende SASO-“terroriste”-saak in die Pretoriase hooggeregshof, getuig hy vir drie dae vir die verdediging. Hy word toegelaat om van sy gedigte in die hof voor te lees ter illustrasie van die betekenis van apartheid, en "wanneer ek klaar getuig het, vra die staatsaanklaer my om sy eksemplaar van Kitaar my kruis te teken!”

Adam word in 1976 na Nederland genooi om ’n kongres, Art contra apartheid, oor die rol en funksie van skrywers in die Suid-Afrikaanse gemeenskap by te woon. Die skrywer James Matthews is ook genooi, maar sy paspoort is geweier. Die konferensie is gereël deur ’n Nederlandse kultuurgroep, De Populier, in Amsterdam. Behalwe Adam woon Suid-Afrikaanse skrywers van drie vastelande die kongres by: Alex la Guma, Dennis Brutus, Lewis Nkosi, Vernon February en James Ravell.

Adam is ook die eerste gekleurde wat genooi is om die NP Van Wyk Louw-gedenklesing aan die Universiteit Stellenbosch te lewer. Die titel van sy lesing, wat hy in 1977 lewer, is "Afrikaans en Afrika in die werk van NP Van Wyk Louw". Adam is baie bly oor die geleentheid om oor Louw te praat, aangesien hy Louw, saam met Marthinus Versfeld, sien as die opwindendste filosofiese denker wat Suid-Afrika opgelewer het.

Sy toneelstuk Hey, smile wit’ me open in 1979 in die Baxter-teater in Kaapstad met musiek wat gekomponeer is deur Randall Wicomb. Hierdie is ’n stuk “totale teater” met dialoog, musiek, prente, beweging en kleur (in meer as een opsig). Ook in 1979, op versoek van Sukovs en Sandra Kotzé, skryf Adam die toneelstuk Krismis van Map Jacobs. Met hierdie stuk sluit hy tesame met Kanna en Joanie Galant-hulle vir hom ’n drieluik af waarmee hy bepaalde sosiale probleme ondersoek het. Krismis van Map Jacobs is ’n maatskaplike stuk wat sterk put uit die ervaring wat hy as maatskaplike werker opgedoen het.

In 2012 is Krismis van Map Jacobs weer in die Kunstekaap op die planke gebring. Die storie van Map Jacobs is Kaaps, maar gehore uit alle dele van die land reageer entoesiasties en positief op hierdie opvoering van dié voorgeskrewe drama vir matriekleerders.

Vir Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG en voorheen dramaresensent by Beeld, was Krismis van Map Jacobs ’n “moet-sien-produksie wat oud en jonk sal bekoor, terwyl dit terselfdertyd Adam Small vereer en sy tydlose werk aan nuwe gehore bekend stel” (Die Burger, 27 Julie 2012).

Die stuk is gesitueer in die 1970’s toe die gedwonge verskuiwings aan die orde van die dag was. Map Jacobs is ’n bendeleier wat in die tronk sit en sy vrylating op parool is voor hande. Maar het hy verander? Die stuk bespieël ook die alledaagse lewe en hartseer van die gemeenskap en temas soos misdaad, armoede en die soektog na liefde en ’n eie identiteit.

David Johnson het die rol van Jacobs vertolk. Hy vertel aan Mariana Malan (Die Burger, 27 Julie 2012): “Dit is ’n uitdagende rol. Dis nogal moeilik om Adam Small te speel. Al is Map eintlik maar ’n klein karakter, moes ek verstaan hoe sy kop werk om hom reg te vertolk.

“Ek sien ook die rol as deel van my sosiale verantwoordelikheid. Dis nodig dat hierdie deel van ons geskiedenis onthou word en dat mense wat dit dalk nie ken nie, ingelig word. Jacobs is ’n produk van sy omgewing. Hy probeer ’n goeie mens wees. Maar hoe kom ’n mens uit ’n omgewing waar hy net so ver kan gaan en nie verder nie?

“Die taal in die stuk is ook vir my belangrik. Dis buigsaam sodat verskillende mense dit verskillend kan gebruik.”

Die regisseur was André Stolz en die ander akteurs Sindi Sampson, Leslie Fong, Huey Louw, Irvine van der Merwe, Chrystal-Donna Roberts, Merlin Balie, Revano Michael Singh en Bradley Olivier.

Einde 1983 word Small aangestel as hoof van die Departement Maatskaplike Werk aan die UWK. Hy beywer hom veral vir intellektualiteit in die professionele opleiding van maatskaplike werkers. Hy stel ‘n nuwe kursus vir opleiding in maatskaplike werk in onder die naam filosofie van maatskaplike werk. Hy het sy personeel aangemoedig om met nuwe idees vorendag te kom. Sy departement was die eerste wat ’n kursus in feminisme, “women and gender studies”, aangebied het. Saam het hy en sy personeel gemeenskapsgebaseerde advieskantore en vernuwende uitreikprogramme ontwikkel, waarvan party so goed gewerk het dat dit later in vaste dienste omgeskep is.

Small se groot intellektuele bydrae is sy “philosophy of care”, wat later ’n verpligte interdissiplinêre module was vir alle eerstejaarstudente wat in die die­nende beroepe opgelei is. In 2001 het hy ’n UWK-eredoktorsgraad vir sy versiende bydraes ontvang. 

“Die UWK se maatskaplike departement was die res van die land ver voor met kritiese, visioenêre denke en ’n relevante, interessante kurrikulum. En dis hoekom ek met alle mag onder Small wou werk,” onthou Vivienne Bozalek, Small se voormalige kollega en tans direkteur van die Teach­ing and Learning-eenheid aan die UWK. (Rapport, 15 September 2012)

“Ek het baie keer na hom gekyk en gedink: dis ’n groot gees dié. Hy was sy tyd ver vooruit en nie almal was gereed vir al sy idees nie. Sy studente was egter mal oor hom en internasionaal was sy werk hoog aangeskryf. 

“Ons gebruik nou nog die ‘vi­sion statement’ wat hy opgestel het. Toe ek dit eenkeer by die Universiteit van New York voorlees, was die mense in trane. Hy was ’n ware visioenêre denker.”

Gedurende hierdie tyd ontstaan daar belangstelling in sy dramawerk in Amerika by die teater Seven Stages in Atlanta, Georgia. Seven Stages is ’n kleinerige, niekommersiële opset, en Kanna sowel as Orange Earth word daar opgevoer. Orange Earth word ook in 1984 deur BBC Radio as ’n vollengte-drama uitgesaai en baie goed ontvang.

In 1993 word Small aangestel as senior professor aan die UWK. En ook in 1993 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Orde vir Voortreflike Diens (goud) van president FW de Klerk. Dit is aan hom toegeken vir die rigtende rol in die Afrikaanse letterkunde en in die denke oor die problematiek van die Suid-Afrikaanse samelewing wat hy oor meer as dertig jaar vervul het. Hy besluit om die vertaling van Orange Earth aan De Klerk op te dra. Hierdie stuk is deur Daniel Hugo vertaal onder die titel Goree en is in 2006 oor RSG uitgesaai en deur Willem Fransman jr op die planke gebring met sy teatergroep die KreAkon-toneelgeselskap.

In 1995 lewer Adam sy debuutreferaat op die 86ste jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns nadat hy as lid verkies is. Die titel van sy referaat is "’n Historiese en toekomsperspektief oor Suid-Afrikaanse waardes". Saam met sy seun Peter John voer hy sy werk ook op by die KKNK in 1995 en 1996, en in 1995 ontvang hy saam met Jan Rabie die Afrikaans Onbeperk-toekenning van die KKNK.
In Desember 1996, die maand van Small se 60ste verjaardag, word van sy dramas, soos Joanie Galant-hulleKrismis van Map Jacobs en Kanna hy kô hystoe, oor die senders van RSG uitgesaai as spesiale ”verjaardaggeskenk”. ’n Hoorbeeld oor Small, vervaardig deur Chris Swanepoel, was ook op die program. Waarskynlik die hoogtepunt van die seisoen was ’n vertaling van The Orange Earth. Daniel Hugo het dié drama, wat in die sewentigerjare laas in die Baxter op die planke gebring is, as Goree in Afrikaans uitgesaai, geregisseer deur Johan Rademan.

Adam ontvang ook twee eredoktorsgrade in letterkunde: in 1981 van die Universiteit van Natal en in 2001 van die Universiteit van Wes-Kaapland. In 1996 vereer die Universiteit van Port Elizabeth hom met ’n eredoktorsgraad in die filosofie.

In 2000 vereer die Afrikaanse Skrywersvereniging vir Small met die toekenning van die Patrick Petersen-gedenkprys. En dit is nog nie die laaste van die akkolades wat hy ontvang nie: in 2005 ontvang hy die Fleur du Cap-teaterprys vir lewenswerk en sy bydrae tot die teater, asook die Departement van Kuns en Kultuur se toekenning vir beste drama vir Kanna hy kô hystoe.

In 2009 het Adam die eerste Suid-Afrikaanse digter geword vir wie ’n bronsbeeld by die Taalmonument in die Paarl opgerig is. Die bronsbeeld is ’n dag voor sy 72ste verjaardag onthul. Hoewel hy nie self die verrigtinge kon bywoon nie, het hy die organiseerders laat weet hy is in sy skik met die eer wat hom te beurt val.

Volgens Ampie Coetzee is Small se onttrekking uit die openbare lewe deels toe te skryf aan “bruin ver-linkses” wat hom destyds tromp-op geloop het oor sy kwansuise stereotipering van die bruin mense (Rapport, 7 Januarie 2009).

Net voor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het Small hom ook die gramskap van die ANC op die hals gehaal toe hy gunstige uitsprake teenoor die Demokratiese Alliansie gemaak het.

Steward van Wyk, hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het gesê (Rapport, 7 Januarie 2009) Small is ’n “ambivalente en enigmatiese figuur, ’n loner, en ’n individu”.

“Small is deeglik bewus van die betekeniswaarde van sy stilte. In Kanna hy kô hystoe staan daar byvoorbeeld: ‘Dis stil, baie stil.’ ’n Ruk lank ervaar die gehoor hierdie stilte, hierdie sprekende woordeloosheid.

“En oor die historiese gebeure van 27 April 1994 skryf hy: ‘lat ons stil word, dja/ en dink, dja, baie stil.’ Van Wyk het ook gesê daar is ook ’n meer bekende en gevleuelde kredo van Small: ‘Kô lat ons sing!’

“Tog illustreer sy uitsprake die liberale waardes van vryheid van denke en spraak waarvoor Small hom altyd beywer het. Small moet geloof word vir sy bydrae om die Afrikaanse letterkunde verteenwoordigend van die volle spraakgemeenskap te maak. Hy was lief vir die randfigure van ons gemeenskap. Mense soos die kitaarspelers, die groentesmouse, die blommeverkopers, bendelede en straatpredikers het hy kleurvol beskryf.”

Christo van der Rheede, destyds uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en nou uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, het gesê Small se bydrae is vandag nog meer relevant as ooit vantevore. “Wat baie van Small se kritici nie besef nie, is dat sy bemoeienis met die gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes presies dieselfde bevrydingsagenda gedryf het as hulle, maar dat hy dit gestroop het van die elitisme en klassisme wat baie van die politieke aktivisme van destyds gekenmerk het” (Rapport, 7 Januarie 2009).

Tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesvieringe in 2009 was Small een van die 25 ontvangers van spesiale Akademie-eeufeesmedaljes vir Suid-Afrikaanse presteerders.

Tydens die Suidoosterfees in Januarie 2011 is In my hand was my kitaar - 'n Peiling van Adam Small as kunstenaar en intellektueel in die Fugard-teater aangebied as deel van die Jakes Gerwel Roots-gespreksreeks. Die aanbieders was Jakes Gerwel, Randall Wicomb, Antjie Krog, Steward van Wyk, Ronelda Kamfer, David de Waal en Charlyn Dyers. Ingesluit in die program was ’n samestelling van gedigvoorlesings en musiek.

Die Skouerklop-toekenning van die Burger-Suidoosterfees is ook in 2011 aan Adam Small toegeken. Dit word sedert 2006 gegee aan iemand wat ’n besondere bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunstebedryf gelewer het. Die ontvanger moet ook in die jaar van die toekenning by die Suidoosterfees betrokke wees. In ’n verklaring is gesê die Suidoosterfees het in 2011 die toon aangegee in die huldigingsjaar ter viering van Adam Small se 75ste verjaardag. Tydens die Jakes Gerwel Roots-gespreksreeks by die afgelope fees is drie dae lank met voorlesings, besprekings, musiekitems en dramatiserings op gepaste wyse erkenning aan Small gegee.

Die feestema in 2011 was Kaaps. In sy verklaring het die fees se uitvoerende hoof, Niel le Roux, gemeld dat Small “meer as ’n gepaste wenner van die Skouerklop-toekenning is, want hy het met sy poësie en dramas uiting aan die musikaliteit van die woord, en in besonder die klankrykheid van Kaaps-wees, gegee” (Die Burger, 2 Februarie 2011). Die toekenning is tydens die fees se afsluitingsgala by die Kunstekaap oorhandig en is op versoek van die Small-familie deur Steward van Wyk in ontvangs geneem.

Adam is op Saterdag 24 September 2011 by die Versindaba gehuldig. Drie-en-twintig digters het op ’n uitnodiging reageer om ’n gedig te skryf wat met hom in gesprek tree of aan hom hulde bring. Die inisiatief was die geesteskind van RSG-omroeper Iris Bester, en is opgeneem om verwerk te word in ’n program oor Small wat later op RSG uitgesaai sou word. Die akteur Nic de Jager het ingestem om die digters wat nie die geleentheid kon bywoon nie, se verse voor te lees.

Melt Myburgh, woordkunsbestuurder van die Woordfees (wat die jaarlikse Versindaba reël), het die geleentheid as ’n groot sukses beskryf: “Ek en Iris Bester, wat die Small-geleentheid voorgestel het, was oorweldig deur die reaksie van digters om deel te neem. Nie minder nie as 23 digters, gevestigde stemme en ook jong, opkomende talent, het gedigte vir dié besonderse geleentheid gelewer. Die publiek was besonder geïnteresseerd in die geleentheid. Dit was die item op die Saterdag se dagprogram wat die grootste aftrek by Versindaba-gangers gekry het.”

Ná die Versindaba is ’n bundel getiteld Vi’ Adam Small saamgestel wat die 23 digters se gedigte bevat. Dit is deur Naledi gepubliseer. Daarmee saam is ook ’n CD wat onder meer Iris Bester se ATKV-bekroonde hoorbeeld Adam Small 75­ en die klankopname van Vi’ Adam Small bevat. Opnames van tussen 1978 en 1996 uit die SAUK se klankargief, waar Small meer as 20 van sy eie gedigte voorlees, is ook op die CD ingesluit. Onder hierdie gedigte is vyf voorheen ongepubliseerde verse.

Breyten Breytenbach het die voorwoord tot hierdie bundel geskryf (Beeld, 8 September 2012). Hy het onder andere geskryf: “Meester: Dis ’n vreugde om iets te mag sê oor jou, Adam Small. (...)

“Beter gestel: Dis ’n voorreg om so ook deel te mag wees van hierdie blye geleentheid by die vrystelling op CD van ’n hoorbeeld wat Iris Bester van jou werk gemaak het. Daarby saam, en ook afsonderlik gebundel, kom die verse wat drie en twintig digters geskryf het uit erkentlikheid vir jou voorbeeld en as erkenning van die durende impak en invloed van jou werk. En belangriker nog vir ons as lesers is daar dan ook die heruitgawe, die weer-hoor, van vier en twintig verse wat jy oor die jare op band ingelees het.

“Dat hierdie liefdeswerk op Wellington, jou grootworddorp, vir die eerste keer in so ’n verpakking beskikbaar gemaak word, is belangrik en dit is goed so. Ek het ’n spesmaas jou voete wou maar altyd terug Wellington toe loop, Boland toe – soos myne seker ook.

“Miskien het ons die dorp uit verskillende rigtings benader. Die ruimtes wat ons help vorm het, is nie dieselfde nie, afgesien van die wind en van oumensberge op die kim. Dit sou aanmatigend van my wees om voor te gee ek kan weet hoe dit is om Adam Small te wees, dat ek jou erfenis se pyn en opstand en miskien ook die vervreemding daarvan van binne sou kon aanvoel. Maar die proe-vreugde van jou woorde, die optel-en-gooi of die skulpkoestering van jou mensweesverse, is daar vir ons almal.

“Want jy het by uitstek gewys dat die poësie in die eerste plek, die tuisplek, ’n mensetaalomgang is: ’n koerskuns en ’n verdwaalkuns. En partykeer – ons is ook mos maar mens – ’n kansvattery. Dit is wat ons dankbaar in die mond neem en saamneem as troos vir ’n lewe wat op te veel maniere ’n vernedering en ’n vashou aan die verbygaande is.

“Die res is duister en vol teenstrydighede – en nie slegs omdat mens op simplistiese wyse aanvaar ‘’n ander se verse is duister’ nie. (Dikwels is dit omdat mens nie wil hoor nie.)

“Ek dink nie jy het anders voorgegee nie, en dis ook goed en reg so. Mens kan maar net raai hoe problematies dit moes wees, en nog steeds is, om die spanning te hanteer tussen die privaat lewe van ’n besonder fynsinnige filosoof enersyds en die rol van die openbare denker-aktivis-volksdigter aan die ander kant. Dis nou wel waar dat spanning ’n mens noop om dieper te skep in persoonlike en gedeelde goedere, en in jou geval sommer in die Bybel ook, maar dit maak die gedurige skawe-aan-jouself nie makliker nie.

“Is jy ooit ’n keuse gegun? Die verdwaalkuns is, paradoksaal, ’n veeleisende en meedoënlose leermeester én -meesteres. Miskien sou jy dit nie anders wou hê nie. En hoekom mag ons nie weet waar ons vandaan kom, wat ons hier soek en wat die implikasies is nie?

“Jy is emblematies van wat ’n mens as ’n inheems gesoogde ‘organiese intellektueel’ sou moet beskryf – met inagneming daarvan dat jou bemoeienisse en posisionering wyer strek as die Suid-Afrikaanse historiese moment, die locale en tydgebonde delirium. Natuurlik is daar eerstens jou identifisering met jou mense, met die armes en die verstotenes en die windrykes en die werkers en die werkloses en dié wat met die nommers loop – maar ook verder, met dié wat in die weikampies en agter die skanse van ’n eie ‘identiteit’ hulle eie braaivleisbeeste wil slag so asof hulle die groenigheid van gras self uitgevind het, wat blind seergemaak of selfregverdigend of deur die “geskiedenis” bemagtig verby die veelduidende van ’n gedeelde lappiesmenswees wil kyk. En ook verder en dieper, is daar jou vergestaltings van die profeet en die sjamaan én, in jou breër empatie en deur jou rousange, jou solidariteit met die klasselose armes oor kontinente en tydvakke en etniese afkampings heen.

“Laat ons die noot nie te hoog insit nie! Want ‘aan die einde van die dag’ (soos ons nogal ewe gladdebek deesdae sê) is wat ons by gaan bly Adam Small die digter – die man wat van ons taal, ons mooi mens-in-wording-bastertaal ’n lokasie – dus ’n plaaslikheid – van universaliteit gemaak het. Die poësie is dieper as die mond, en met baie tonge.

“Jy, Meester, het ons ook die ryke kreatiwiteit van twyfel en onsekerheid voor die ewige laat ervaar. Dis goed en mooi so. Ons is jou dankbaar.”

’n Simposium oor Small se lewe en werk is op 8 Oktober 2011 by die UWK aangebied. Hy het in Desember 2011 sy 75ste verjaarsdag gevier, en akademici met persoonlike en professionele bande met Small het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om te besin oor sy bydrae as digter, dramaturg, filosoof en mens. In ’n brief van dank “vir alles wat almal doen in verband met my werk” en wat Steward van Wyk, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, in sy verwelkomingsboodskap voorgelees het, het Adam Small sy innige waardering uitgespreek “vir die grasie waarmee almal my privaatheid respekteer”. Hy het daarop gewys “dat my werk dikwels in die teken van satire staan, en satire, soos James Sutherland sê (ek haal uit geheue aan), ‘is not for the literal-minded ... and is intended to destroy the fool’.” Small se vrou, Rosalie, was sy oë en ore op die simposium, aangesien hy sedert 1993 nie meer aan die openbare gesprek deelgeneem nie. (Beeld, 12 Oktober 2011)

Die verskillende deelnemers aan bogenoemde simposium het hulle as volg oor Adam Small uitgelaat:

  • André P Brink: Small se werk getuig van ’n lang pad “deur ’n donker, dónker droom” van apartheid. Dit is skreiend hoe sy werke geensins verouder nie. Small se bydrae in Afrikaans is juis vandag belangriker as ooit tevore. Saam met Jonker was Small ’n stemvurk van ’n era vir die praktyk van menswees. Small se oeuvre is een van die belangrikstes in Afrikaans ... En sy dramas staan nie ’n duimpie terug vir Arthur Miller s’n nie.
  • Jakes Gerwel: Small se sterk punt is sy kritiese ingesteldheid. As satirikus staan Small in die teken van die filosoof Kierkegaard se “laughter administered in fear and trembling”.
  • Abraham de Vries het gewys op die merkwaardige van Small se stilte die vorige 18 jaar. “[H]eilige minagting vir valsheid en opstandige meelewing met mede-onderdruktes laat sy werk saampraat – ook in die redes vir een van die onlangse, hopelik rigtinggewende, woede-uitbarstings van ons tyd.”
  • Frank Hendricks van die UWK: Small het Kaaps help destigmatiseer. In sy skryfwerk het Small Kaaps na ’n groter gehoor geneem. Hy het gewaarsku teen uitdefi­niëring in Afrikaans. Die literêre benutting van Kaaps is deel van die meriete van sy skryfwerk ... Small bring Kaaps as ’n voedingsbron by en sal só bydra tot ’n hersiening van Standaardafrikaans.
  • Steward van Wyk: Afrikaans kan vir Small dankbaar wees soos Duits vir die groot naoorlogse digter Paul Celan. Small het met ’n ander geluid Afrikaans binnegebring en gehelp om die taal menslik te maak. In ’n bespreking van Sê sjibbolet sê Van Wyk dat Small met sy gebruik van Kaaps en deur sy gewroeg met Afrikaans die verstotenes ook die taal binnegebring het.
  • Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria het afstand en affiniteit en gemeenskaplikheid by Small bespreek, soos sy fokus op kulturele gemeenskaplikheid onder apartheid.
  • Die groot invloed van Small se ouers op hom is bespreek deur Francois Cleophas (’n susterskind van Small) van die Universiteit Stellenbosch.
  • Michael Cloete van Unisa het Small as morele filosoof bekyk: by Small gaan dit om die wil tot dialoog – nie Nietzsche se idee van die wil tot mag nie. ’n Filosofie van die humanisme is Small se blywende teenvoeter in die probleem van verontmensliking.
  • Wium van Zyl van die UWK het die retoriese aard van Small se werk bespreek: Small het op ’n uitkringende wantoestand gewys en dit teengestaan ... Hy het die kritici van destyds oorstyg.”
  • Nico Koopman van die US: Oor Small se werke en as profeet vir menswaardigheid het hy gesê dat dit profeties was in ons stryd teen apartheid en dat dit profeties is in ons strewe om ’n nuwe gemeenskap te bou. (Beeld, 12 Oktober 2011)

Ook in 2011 is Adam Small deur die Kaapse stadsraad vereer met ’n burgerlike eerbetoon vir sy unieke bydrae tot kuns en kultuur deur sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

In 2012 het Krismis van Map Jacobs in die spervuur beland. Dit is voorgeskryf vir skole en Anton Alberts, VF+-parlementslid, het, hoewel hy nie self die drama gelees het nie, namens VF+-ondersteuners aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gevra of sy besef dat daar rassistiese taalgebruik in die drama is, asook godslastering, gekruide taal en swak Afrikaans. Alberts het ook vir Motshekga gevra of die drama opvoedkundig enige waarde toevoeg en of dit tot nasiebou bydra.

Motshekga was wel deeglik bewus van die klagtes van die taalgebruik in Map Jacobs, maar ook dat die taal wat in die drama deur die karakters gebruik word, binne ’n bepaalde konteks geskied. Die drama is as voorgeskrewe werk gekies omdat dit ’n baie goeie voorbeeld bied van hoe ’n drama se struktuur daar moet uitsien. Dit bied ook aan leerders ’n nuwe perspektief op ander wêrelde en ander kulture se uitkyk op die lewe.

“Die drama is uitdagend en bevat stimulerende temas wat ’n kritiese begrip vir waardes en maatskaplike binding kweek. Dit is ’n voortreflike viering van menswaardigheid, ongeag ras. Adam Small is ’n Hertzogpryswenner, ’n skrywer, digter en filosoof wie se navorsingswerk oor etiek en moraliteit welbekend is.” (Beeld, 26 Mei 2012)

Steward van Wyk, voorsitter van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland en gerekende kenner van Small se werk, was baie ongelukkig oor die kritiek op Map Jacobs: “Die vraag deur die VF+ verwoord ’n verkrampte en bekrompe benadering, soos die knap antwoord van die minister uitwys. Ek is werklik onbewus van rassisme en godslastering in die teks. Mense moet in konteks lees. Die drama speel af in die tyd toe apartheid en werkreservering ’n groot rol gespeel het om Map se betrokkenheid in die bendekultuur aan te help.”

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Adam telkens in die verlede oor die hoof gesien wanneer dit gekom het by die toekenning van die Hertzogprys vir drama. In 2012 is hierdie onreg egter reggestel toe die Hertzogprys vir al sy dramas aan hom toegeken is.

Hierdie toekenning was egter ook nie sonder sy omstredenheid nie. Nicol Stassen, besturende direkteur van Protea Boekhuis, het in ’n brief aan die Akademie gesê hoewel hy dit nie betwyfel dat die Akademie die prys al jare gelede aan Small moes toegeken het nie, hy nie dink dat die Akademie regverdig en reëlmatig opgetree nie.

Rapport van 27 Maart 2012 berig as volg oor die hele aangeleentheid: “Volgens die reglement is dit duidelik dat slegs werke van skrywers wat die ‘vorige drie kalenderjare’ nuwe, oorspronklike wer­ke gepubliseer het, in ag geneem word by die toekenning van die prys,” het Stassen geskryf. “Dit is jammer dat die Akademie in die verlede, toe hy die prys wel volgens die reglement aan Adam Small kon toeken, dit nie gedoen het nie. 

“’n Mens het begrip daarvoor dat die Akademie ’n onreg van die verlede wil regstel. ’n Mens kan egter geen begrip daarvoor hê dat die Akademie vanjaar ’n nuwe onreg pleeg nie.”

Stassen het ook gesê die stap wat die Letterkundekommissie gedoen het, was nie in ooreenstemming met vorige besluite nie. “In die verlede is een of twee keer besluit om die prys nie toe te ken nie – eerder as om, soos in hierdie geval, die prys toe te ken aan persone of werke wat nie vir toekenning in aanmerking mag kom nie.”

André P Brink het gesê: “Ons was almal bewus van die driejaar-reglement, en die Akademie het dit jare lank voorgehou as ’n rede waarom hy nie die prys aan Small ‘kon’ toeken nie. Die feit dat hy dit nou tóg gedoen het, suggereer dat hy willens en wetens moes besluit het om die reglement op te skort, en ’n mens sou ’n aankondiging daaroor waardeer het. Dit kon baie duidelik nie ‘toevallig’ gebeur het nie.

“Ek self is in die wolke om te sien dat hierdie onreg wat byna ’n halfeeu geduur het, nou uiteindelik, lyk dit, ongedaan gemaak is,” het Brink bygevoeg.

Breyten Breytenbach, wat ook reeds die prys gewen het, het Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Akademie, só per e-pos gelukgewens met Small se aanwysing as wenner. “Liewers laat as nooit. Ek dink dis ’n welverdiende erkenning van die wel erkende werk van ’n werklik belangrike skrywer. Met ander woorde, dis ook die erkenning van die rol van sosiale waarnemer en kritikus wat hier praat. My gelukwensinge aan die Akademieraad vir die amper vanselfsprekende besluit.”

Van der Elst het soos volg op Stassen se skrywe gereageer: “Uiteraard is die besprekings in die binnekringe van die Akademie oor hierdie sake vertroulik van aard, maar die volgende feitelikhede is ter sake: Die Letterkundekommissie van die SA Akademie is gebonde aan die reglement en het binne die reglement vir die toekenning van die Hertzogprys opgetree en voorleggings vir drama (oor die afgelope drie jaar) uitvoerig en indringend bespreek. Die LK het besluit om geeneen van die dramas wat voorgelê is aan te beveel vir die Hertzogprys nie. Hierdie bevinding is na die Akademieraad verwys. Die LK het wel ter oorweging aan die Raad deurgegee om die prys aan Small toe te ken. Die Akademieraad, as hoogste gesagsliggaam, het besluit, soos wat al in die verlede in sekere gevalle gebeur het, om die Hertzogprys aan Small toe te ken” (Rapport, 27 Maart 2012).

Rosalie, Small se vrou, het die toekenning namens hom ontvang en Johan Rademan het ’n eksklusiewe onderhoud met hom gevoer wat op RSG se Skrywers en boeke uitgesaai is. Rademan het gesê sy ervaring van die onderhoud met Small was oorrompelend. “Hy het ’n onwrikbare geloof in die liefde. Hy het al baie seergekry, maar genesing speel steeds ’n sentrale rol in sy lewensuitkyk. Hy toon deernis veel meer as wat ander met hom getoon het” (Die Burger, 8 September 2012).

Steward van Wyk het die rede by die toekenning gelewer. Hy het Small se werk so getipeer: “Hy spreek terselfdertyd breë, universele temas aan, soos wat ’n stelsel aan mense doen, die kwessie ook van armoede, van gewone mense, ook van liefde en versoening en sulke soort waardes wat regdeur sy poësie inslag vind” (Die Burger, 26 Maart 2012).

In sy huldigingswoord het Van Wyk ook gesê: “Small word beskou as een van die voorste dramaturge in Afrikaans. Kanna hy kô hystoe is waarskynlik een van die mees afgeronde dramas waarin politiek-maatskaplike problematiek binne ’n totale en vernuwende gebruik van teaterkonvensies verpak word. André P Brink beskou dit as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse drama-tradisie.

“Baie is die afgelope jaar gesê oor die besluit van die Akademie om dié prys aan Adam Small toe te ken. Na alles wat gesê is, sal hierdie toekenning in die geskiedenis afgaan as een wat welverdiende erkenning gee aan Small se groot bydrae tot die Afrikaanse drama, ’n nodige regstelling van ’n historiese mistasting en gepaste hulde aan ’n groot skrywer.” (Die Burger, 12 September 2012)

In Adam se toespraak, wat deur Rosalie voorgelees is, spreek Adam sy waardering uit teenoor onder andere die Akademie, die digters wat verse vir hom op sy 75ste jaar geskryf het, Steward van Wyk, Michael le Cordeur, Jason Lloyd en Heindrich Wyngaard. Ook teenoor Antjie Krog vir haar insig in die musikaliteit van Kaaps – “Kaaps synde my spesiale identifikasie met Afrikaans vir soverre ek die grense van ons taal versit het sodat dit nou ’n baie wyer ruimte as voorheen bestryk.”

Hy het sy toespraak as volg afgesluit: “Laat die tesamevoeging van die name Hertzog en Adam Small ’n groot simboliek van versoening vir die mense van ons land wees. Politieke versoening is belangrik, maar intellektuele versoening, wat slegs deur die filosofie en die kuns gedra kan word, is diepsinniger en die grond van alles. Laat ons opvrolik. In daardie ewige woorde: Kô lat ons sing!” (Beeld, 18 September 2012)

In sy toespraak het Adam ook melding gemaak van die gedig wat Pieter Odendaal vir die bundel Vi’ Adam Small geskryf het. “(Ek) sê graag aan die jong digter Pieter Odendaal, na aanleiding van sy roerende reëls waarin hy my vra om te aanvaar dat sy pa, wat indertyd in die sogenaamde grensoorlog betrokke was, ’n goeie man is: Pieter Odendaal, glo my, ek het begrip daarvoor dat goeie mense ingesuig is deur die siekte van apartheid. Ek verstaan.”

Pieter Odendaal se gedig:

Die eerste steen
ek sou graag net ’n klipgooi ver
van jou af wou leef, meneer small
van die bankies die deure
die treine die skole die strande
die riots die klip in die hande
maar ek staan anderkant die storm
waar ons reënboë teen die skerm van die dag projekteer
’n mens kan nie lewens
in die lug bou nie, adam
en ek weet nie hoe om 
van hier vir jou te skryf nie
hier waar die blindes dans dans dans
met iPods in hul ore
en dollars in hul oë
ek wens ek is vroeër gebore
dat ek al kon loop die dag
toe Hector gaan lê het
miskien sou ek hom kon optel
miskien sou ek saam 
cowboys en kroeks speel
maar my hande is nog altyd
te klein gewees om klippe te gooi
al stoei my pa se bloed in my
en al was my oupa in die senaat
hy’s dood die jaar
toe my pa begin skiet het
my pa is ’n goeie man, meneer small
al praat slegs sy oë oor die grens
en al drink hy soms te veel
hy’s ’n goeie man, meneer small
al skree hy soms op taxi’s
en al was hy en sy god maar oukei met als gewees
hy’s ’n goeie man, meneer small
en ek hoop dat ek eendag skroomloos
langs sy graf kan staan en huil

En André Trantraal se gedig:

Die Afrikaanses

(Wie ore het om te luister, laat hom luister)

Die eerste gedwonge verskuiwing in die geskiedenis
was mos uit die Tuin van Eden:
Ons is almal die kinders van refugees;
dié dat ons so verlore is.

Die Here het ’n wag aangestel:
’n Engel met ’n vlammende swaard
bewaar die ingang tot die Paradys,
soos ’n sekuriteitswag in ’n rykmansbuurt.

Die mens is dakloos, ’n werklose tuinier.
Hy bid vir die kans om sy brood in die sweet van sy aangesig
te verdien; hy sit langs die pad en werk bedel,
maar die mense is te veel en die werk te min

1. Die taal van Eden, die taal van die engele,

beskik nie oor die woorde om iets so
menslik soos pyn te beskryf nie;
dit is ’n taal ongeskik vir die mond van die armes

2. Mý taal is ’n informal settlement op die nasionale pad van Afrikaans

Mý taal bestaan uit chipboard, swart plastiek en
verroeste sinkplaat
Mý taal kan nie bekostig om mooi te lyk nie
My taal is ongeskik vir die mond van die engele

3. Die verlange om terug te keer

verlaat hulle nooit; vir die mens wat
in die skaduwee van God gesit het
is die helderste lig van die wêreld duisternis

4. En in die donkerste nag
wat ’n naakte bewussyn kan skilder
droom hulle van perfekte blomme pluk
in die perfekte tuin van hul jeug.

In 2013 is The orange earth by die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer. Die dramaturg noem Orange Earth sy mees outobiografiese werk, sê Steward van Wyk, samesteller van Kô, lat ons sing, ’n keur uit Small se digbundels aan Willem de Vries (Die Burger, 18 Desember 2012). “Dit het waarskynlik te make met die persoonlike herinneringe wat die karakter Johnny Adams oproep. Een besonder roerende herinnering is dié van die vernedering wat sy moeder beleef wanneer sy deur ’n blanke vrou gedwing word om na die agterdeur te gaan om ’n aalmoes te ontvang. Hiermee gee Small ’n aanduiding van hoe apartheid op ’n baie persoonlike vlak beleef is, en die pynlike herinneringe wat die individu steeds met hom of haar saamdra en moet verwerk.

“Dit wys ook hoe ’n denkende individu deur vernedering op grond van ras gedryf word tot op die rand van geweld. ’n Verdere tema in die drama is die gedeelde taal- en kultuuragtergrond van wit en bruin Afrikaans-sprekendes soos vergestalt in die gesprekke tussen Johnny en sy tronkbewaarder. Small wil daarmee wys hoe hierdie gedeelde agtergrond vir ’n ideologie opgeoffer kan word. Dit is relevant vir die huidige tydsgewrig waarin versoening en inklusiwiteit steeds aktief nagestreef moet word, ten spyte van die aanduidings dat ons meer gepolariseerd op taal-, ras- en ander grense raak. Ek kan my nie herinner dat die drama ooit hier opgevoer is nie. Indien nie, is die opvoering op die Suidoosterfees literêr-histories van belang en ook ’n stuk teatergeskiedenis. Ons sal in ’n kort tyd al Small se dramas op die verhoog gesien het in ’n tyd wanneer sy lewe en bydrae op vele terreine gehuldig en gevier word.”

Op 14 September 2013 het Adam Small ’n openbare stilswye van ongeveer 20 jaar verbreek toe hy tydens die Tuin van die Digters-fees by die Breytenbach-sentrum op Wellington gedigte uit sy nuwe bundel, Klawerjas, voorgelees het.

Net mooi 'n jaar nadat Small die Hertzogprys ontvang het (12 September 2012, om presies te wees), het hy die Saterdagmiddag om 14h00 aan die sy van sy vrou, Rosalie, saam met die ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, en Riana Barnard van Tafelberg-uitgewers die volgepakte markiestent by die Breytenbach Sentrum op Wellington, sy tuisdorp, binnegestap. Ekstra stoele en sitplek moes inderhaas vir die ongeveer 400 mense gereël word. Ander ATR-lede in die gehoor was Danny Titus (ATKV), Danie van Wyk (SBA) en Ria Olivier (projekbestuurder). Ook in die gehoor was André P Brink, Wilma Stockenström, Riana Scheepers en ander skrywers. Richard van der Ross, voormalige rektor van die UWK, waar Adam Small professor was, het ook kom groet; so ook vriende uit sy jeug, soos Nellie Cavernelis en Sylvia le Cordeur. Fotograwe, TV-spanne en sakemanne, studente en onderwysers, en sommer net gewone Welingtonners.

In sy verwelkomingswoord het Le Cordeur gesê: "Een van Wellington se grootste seuns het hystoe gekom (à la Kanna)."

Dit was ’n emosionele middag, nie net vir Adam Small nie, maar ook vir die toehoorders, en daar was min wat nie ’n knop in die keel gekry het of ’n traan weggepink het toe hy uit Klawerjas begin voorlees het nie. Rosalie het langs hom gesit en sy trane afgevee. Sy het na die tyd gesê dat sy oorweldig was, ook vanweë die staande toejuiging wat hulle ontvang het.

Klawerjas is in 2013 deur Tafelberg gepubliseer en dit is Adam se eerste bundel gedigte sedert Oos wes tuis bes Distrik Ses en sy eerste gepubliseerde werk sedert Krismis van Map Jacobs in 1983. Hy het ongeveer ’n jaar en ’n half aan die bundel gewerk en het daarna al weer amper genoeg verse geskryf vir ’n vervolg. Hy vertel aan Murray la Vita (Beeld, 13 September 2013) dat die tema van reis baie sterk deurkom in Klawerjas. “Die Odysseus-tema. Die lewe is ’n reis.”

Oor sy jare lange stilte en onttrekking aan die openbare lewe verduidelik hy aan La Vita: “Ja, jy weet, dit was die dae toe ek baie, baie bitter was ... ’n groot bitterheid gehad het. Oor apartheid, natuurlik. En ek het net besluit, wat baat dit tog? Laat alles maar vaar en bly net stil. En dit is natuurlik nie net gewone stilte nie, maar ook digterlike swye. Rosalie het my seker gehelp. Ek het later, soos ek ouer geword het, om die waarheid te sê redelik onlangs, besluit: hoekom sal ek myself skade berokken. Ek wil nog graag my beste werk lewer voordat ek sterf ... en die dood is ’n werklikheid in my lewe. En ek het vir myself die lig gevind. Dit was eintlik ’n Herkuliese werk hierdie. Rosalie het vir my alles getik. Ek tik deesdae nie meer self nie.

“Ek het maar net besluit dat die bitterheid my nie sal onderkry nie; ek sal daar uitkom. En ek hét daar uitgekom.”

La Vita wou weet of daar iets spesifieks was wat hom laat onttrek het. ““Ek dink dit was ná die publikasie van Oos Wes Tuis Bes: Distrik Ses (1973) of selfs nog vroeër, miskien ná die publikasie van Sê sjibbolet (1963). Wanneer jou werk verskyn en al wat mense raaksien, is kleurling, kleurling, kleurling, dan maak dit séér ... dit maak seer. In elk geval, later het die mense tog tot beter insigte gekom en daar’s niemand meer wat Kanna hy kô hystoe kan afskryf nie, want dit sou dwaas wees. Dis nie goed dat ek dit self sê nie, maar dit is ’n feit.

“Jy weet, destyds het selfs WEG Louw ... en tog was hy die eerste toe hy die kunsredakteur van Die Burger was wat my Kaapse skryfwerk gepubliseer het ... Maar selfs hý het gesê toe Kanna hy kô hystoe verskyn: ‘Drama in straattaal van kleurling’. Kan jy dit glo ... WEG Louw? Hy het egter die moed gehad om later – dit was op ’n verhoog in Stellenbosch – te sê: ‘Jammer, meneer Small, ek was verkeerd.’”

Vir Adam Small is die grootste gedig in Klawerjas die Jesus-gedig. “Ek is ’n Jesus-bewonderaar. Ek aanvaar dat hierdie historiese persoonlikheid onuitspreeklik imponerend sy skadu oor die hele geskiedenis gewerp het. Om ná meer as 2 000 jaar onblusbaar te wees, is self ewe ’n wonderwerk.”

In ’n nota aan die einde van die onderhoud met Ronnie Belcher wat opgeneem is in Gesprekke met skrywers 2 (1972) skryf Small: “Is op geen dag 100% fisiek gesond nie (oorsaak: my land en sy mense en dat ek van hulle notisie neem).”

Murray la Vita (Beeld, 13 September 2013) het hom daaroor uitgevra: “Ja, ek ly aan ulseratiewe kolitis (ontsteking van die spysverteringstelsel). Dis ’n helse krankheid, ek wens dit nie op my vyand toe nie. Wanneer daai pyn jou vat, dan vát hy vir jou. Soos ek in een van die gedigte sê: Dis ’n fóltering. Dit word deur spanning vererger en dit bring ook ’n sekere soort depressie mee.”

Die jong digter Nathan Trantraal het in Augustus 2013 gesorg vir ’n klein opskudding toe hy hom sterk uitgelaat het oor Adam Small en Peter Snyders deur te beweer dat hulle Kaaps ’n “joke-taal” gemaak het. Hulle het volgens Trantraal gedink dis ’n taal waarin jy sing en dans, “’n f****n coon-taal”.

Hierop het Adam Small aan La Vita gesê dat hy aan Nathan Trantraal geskryf het en dat hy baie vriendelik en erkentlik geantwoord het. “Ek dink hy’s ’n jong man en hy het nog ’n ver ent, ’n digterlike pad, om te loop, maar hy is welmenend en hy sal sy weg vind.” (Beeld, 13 September 2013)

In Oktober 2013 was Adam Small, Hennie Aucamp en TT Cloete die eregaste by die bekendstelling van Deel XIV van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Hulle het elkeen ’n leergebinde eksemplaar ontvang. Adam het voorgelees uit sy drama wat toe pas verskyn het, Goree, en het ook ’n nuwe gedig voorgelees waarin hy weer sy gegriefdheid teenoor ongeregtigheid uitdruk. Small, Aucamp en Cloete het jare lange bande met die WAT. Adam Small het in 1994 deelgeneem aan ’n WAT-kongres waar daar plek ingeruim is vir die wetenskaplike, maar tog ook sensitiewe toevoeging van woorde en uitdrukkings wat dalk gevoelens kan kwets. Talle Kaapse woorde in die woordeboek is uit sy tekste.

Adam Small is saam met Cerneels Lourens, prokureur en taalaktivis, en Ton Vosloo, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, in 2013 deur die Afrikaanse Taalraad met die Kokerboomprys vereer. Dit is die eerste keer dat die Taalraad sedert sy stigting pryse toeken. Dié pryse is om die ATR se drievoudige leuse, “Afrikaans: Bevorder, Bemagtig, Beskerm”, te verwesenlik. Die pryse was in die vorm van ’n skildery van ’n kokerboom.

In Februarie 2014 is Adam Small met die toekenning van ’n ministeriële eerbewys deur die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport vereer vir sy omvattende en lewenslange bydrae tot kultuursake en spesifiek tot die Afrikaanse letterkunde. Dit was vir hom ’n eer om hierdie toekenning te ontvang, het Small gesê: “Dit was nog altyd ’n voorreg dat my werk op een of ander manier ’n stem sou gee aan diegene wat nie kan praat nie.” (Die Burger, 28 Februarie 2014)

Ook in 2014 was Adam Small een van die deelnemers aan die Franschhoekse boekefees. In die feesprogram is genoem dat hy "jare lank die swye opgelê is weens verwerping" deur sy medeskrywers. Hierdie stelling het Small vir 'n ses geslaan toe hy dit in ’n gesprek met Joan Hambidge "strooipratery" genoem het. Hy het dit benadruk dat sy skrywersvriende en -kollegas hom altyd ondersteun het en dat hy nooit die gevoel ervaar het dat hy deur hulle verwerp word nie.

In ’n resensie in Die Burger van 20 Januarie 2015 is met groot lof gepraat van die tweeluik wat Natalia de Rocha en Applauz saamgestel het wat Adam Small se lewe en werk vier.

In die eerste deel van die aanbieding is die gehoor bekendgestel aan drie van sy dramas deur middel van uittreksels: Joanie Galant-hulle, The orange earth en Kanna hy kô hystoe. Daarna was daar ’n jazzprogram waarin Small se bekendste gedigte wat in die 1970's gepubliseer is, ten toon gestel is. Die eerste gedig in dié deel van die program was "Die Here het gaskommel".

Volgens die resensent het Da Rocha baie goed daarin geslaag om die gedigte op "eg menslike wyse met heerlike musiek uit te beeld".

Die eerbewyse aan Adam Small het nie opgehou soos hy ouer geword het nie. Inteendeel. In 2015 is hy saam met Wilma Stockenström vereer met ’n Fiësta-toekenning vir hulle lewensbydrae in teater en woordkuns en in 2015 het die Universiteit Stellenbosch ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken. Tydens die plegtigheid is drie van sy gedigte, "Sancta Maria", "Witkalk" en "Affodil van Saron", aan die gehoor voorgelees. Die graad is aan hom toegeken vir sy "verruiming van die Suid-Afrikaanse letterkunde, sy verryking van Afrikaans en sy gevoelige dog gesaghebbende verwoording van eens verbode onderwerpe om sodoende as stem vir menige stemlose te doen".

Michael le Cordeur het met die toekenning geskryf: "As akademikus, digter en dramaturg het Small die brandende vraagstukke van ’n verdeelde Suid-Afrika op deurdagte dog onverskrokke wyse aangeroer en hom só as denkende revolusionêr en revolusionêre denker onderskei. Deur sy werk het hy die Suid-Afrikaanse letterkundeskat verruim en vernuwe, die Afrikaanse taal verryk, eens versweë onderwerpe gevoelig dog gesaghebbend verwoord en ’n stem vir menige stemlose geword.

"Sodoende het Small Kaaps tot vryheidstaal, maar bowenal tot literêre taal verhef. Om ’n eredoktorsgraad aan prof Adam Small toe te ken, is gepaste erkenning vir ’n man wat sy tyd ver vooruit was; ’n profeet wat lank in sy eie land misken is. Dit wys onteenseglik dat die universiteit op ’n onomkeerbare pad na ware demokrasie is."

Gedurende die Suidoosterfees in 2015 het die akteurs June van Merch, Royston Stoffels en Ivan Abrahams Adam Small se verse in woord en klank uitgevoer. En by die Woordfees van 2016 is Adriaan Brand se produksie van Small se Kô, lat ons sing! aangewys as die beste kontemporêremusiekproduksie. Brand, wat ’n musikant sowel as ’n musiekterapeut is, het ’n huldigingskonsert saamgestel. Verskeie skeppende persoonlikhede het saamgewerk om hierdie musiekprojek die lig te laat sien: Koos Kombuis, Natalia da Rocha, June van Merch en die unieke Solms Delta-musiekprojek.

In 2015 het Adam Small se nuwe drama, Maria, moeder van God, tydens RSG se kunstefees op die radio gedebuteer. Dit is in 2016 deur Naledi gepubliseer.

In sy resensie van Maria, moeder van God skryf Danie Botha in Die Burger van 21 Maart 2016: "Maria, moeder van God as leesteks raak die gemoed dalk negatief. Jy kom in opstand teen die oorbeklemtoning van die alledaagse menslikheid. Dit raak anachronisties. Met hersiening en as opvoering kan dit moontlik besonder boeiend wees."

In Rapport (18 Mei 2015) het Adam Small geskryf oor Afrikaans 90 jaar nadat dit amptelike status verkry het: "Toe ek genader is om hierdie bydrae, het ek met my vrou, Rosalie, geraadpleeg. Sy’t my hierdie moontlikheid ­gestel! Ek kon die onderwerp tegnies benader met ’n opname van datums en tye, kwessies wat deur die jare te berde gebring is en responsies daarop, die aanstip van strydpunte rondom die taal, ensovoort – en ’n bondeltjie trietsige leesstof lewer; of ek kon heel persoonlik werk en vertel van my eie omgang met die taal, my eie liefde daarvoor, asook my persoonlike hartseer van belewenis daarvan (soms), en weliswaar soms ook my woede.

"Ek het die persoonlike manier gekies, wat daardie innigheid moontlik maak wat ook ek in my werk nastreef. Dit gaan oor emosie soos 'hwyl' – die Walliesers noem dit so: Daardie ínkom in 'iets' (die woordeboek is hier behulpsaam) soos ’n Richard Burton kon laat leef met die lees van ’n Dylan Thomas-gedig. (Of, ja, soos ’n partydige skare regkry tydens ’n groot rugbystryd!)

“'Afrikaans op 90' word dan vir my liewers 'Mý Afrikaans op 90'. En, gegee die dinamiek van ’n taal (sy groei hierdie kant toe en daardie kant toe, sy vorming en vervorming), sal Afrikaans alte seker bly leef, minstens vir nóg 90 jaar – en ek glo véél langer, met bruin mense, die groot Afrikaanspraters, dominant natuurlik.

"Mý Afrikaans is Bolands en Kaaps (soos in Kaapse Vlakte): Ek is bevoorreg om die naam te kon skep vir hierdie spruit van die taal, wat nou soos ’n groot boom staan binnekant die volle boord van Afrikaans. My Afrikaans het in Wellington ontstaan, waar ek gebore is. Ek het egter nie daar begin grootword nie. Hierdie eerste ontluiking het my te beurt geval op Goree, die gehuggie (dis steeds daar), Worcester se kant van Robertson neffens die Vinkrivier. Deel van daardie eerste ­jare van my Afrikaanse grootword – ’n uiters gelukkige kindertyd – was die oranjekleurige rooibruin grond van die plek ('the orange earth'), en ’n begraafplasie met rooibruin hopies grond van grafte oorkant die rooibruin stofpad na Robertson. Daardie uitgestrekte diep Bolandse plaasomgewing staan ingegríf in my heugenis: Die plaasdam, kortby ons eenvoudige huis, ’n sentrale verwysingspunt. Hoe dikwels het ek as vyf-sesjarige kind daar op die wal geloop en uitgekyk op die rooibruin water, lewegewend vir die koringlande wat ek op ’n afstand kon sien. Daar was twee afloopslote vanaf die (vir my) bangmaak-sluis met die groot wiel van ’n kraan.

"My pa was die onderwyser daar, en my moeder het hom soms in die skooltjie gehelp met die leer, vir die plaas-kleingoed – ék een van hulle – van die 'a, be, de, ê', die Afrikaanse alfabet. Dan het sy my saans ook stories gelees, ook vertel, in Afrikaans, hoewel van die stories dikwels in Engels in die boeke gestaan het – so het ek sommer ’n skootjie Engels bekom, al was my ma se vaardigheid met daardie taal maar eina! Skoolvakansietyd kon ek uit Goree se eensaamheid ontsnap – waar ek tóg ook nie wou wegkom nie, ek het dit só lief gehad. Dan is ons Wellington toe. Dit was dae toe Voorstraat nog ’n mooi gruispad was, waar my ma se mense gewoon het. My Nederduits Gereformeerde familie het hulle in Terracestraat bevind by die huis, indertyd nommer 13, waar ek gebore is. (Ek het maar so tussen Voor- en Terracestraat gependel.)

"Terwyl ek skryf (dis Sondagoggend) kom die ontroerende – eintlik gewyde – lied oor die lug, 'Pleit vir Afrika' (soms gesing deur ­Sibongile Khumalo). En ek besef deeglik hoe 'Afrika-ans' my wêreld is. Met die Bybel op my tafel – my eerste bron van besieling naas die Qur’an (vanuit my herkoms aan moederskant) – lees ek (weer) Johannes 1:1: 'In die Begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God ...' En baie helder is my ervaring hiervan dié van ’n Afrikaanse woord. (Dit verheug my: God is waarlik ook Afrikaans magtig!)

"My Afrikaanse ouers was, uit die aard van húl Afrikaans, vrydenkend. So het dit gebeur dat ek my senior skoolopleiding in Rooms-Katolieke omgewing beleef het – eers, op die Kaapse Vlakte waarheen ons in 1945 verhuis het, by die ­Dominikaanse nonne, en daarna by die Ierse Christian Brothers. (Uit hierdie agtergrond ook ontspring my jongste drama, Maria, Moeder van God. Dit word nou – in my 78ste jaar – eersdaags gepubliseer, maar dit is feitlik lewenslank in my geberg.)

"Die Brothers, veral, het ek as oop denkend ervaar – soos my ouers. Deur hulle het ek my belangrike digter-voorganger, SV Petersen, ontmoet. Hy was, soos die Brothers, in die onderwys betrokke. Petersen was 20 jaar en meer ouer as ek. Ek was in matriek toe ek hom die eerste keer ontmoet het, tot my durende voordeel. So is ’n verdere liefde vir die Afrikaanse woord by my gestig. Tot vandag toe bly van sy woorde in Die stil kind en Die ­enkeling vir my van ons grootste ­poësie. (...)

"Wat my Afrikaanse vorming betref, sal ek nie nalaat om ons groot digter-filosoof te noem nie: NP van Wyk Louw. Een van die mooiste oomblikke in my lewe is my kennismaking met Louw. Ek het op ’n keer by hom aan huis gekom. Hy was indertyd verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand.

"Ten slotte: Ek wil verder blý skryf in Afrikaans, en my pen het inderdaad ’n Afrikaanse punt! Die vraag kom dan by my, wanneer ek, soos Van Wyk Louw, kla: 'Heer, U het nie woord gehou met my: Hoekom, as ’n mens só graag nog wil skryf, moet jy deur die Dood afgesny word?'

"Vir laas, in dier voege, ’n uittreksel uit ’n kort gedig van my, gedagtig aan Dylan Thomas:

Hoekom? Wié wil dit hê só?
Ek sou graag glo
(want dit maak sin):
Death shall have no dominion."

Adam Small is op 25 Junie 2016 kort ná middernag in die Kingsbury-hospitaal in Claremont, Kaapstad oorlede. Sy seun Peter-John het gesê komplikasies het ingetree ná ’n operasie aan sy linkerbeen om sy bloedsomloop te verbeter. Small het vir ’n lang tyd aan progressiewe hartversaking gely en weens die pyn in sy been het hy met groot moeite geloop.

Peter-John en Rosalie, Adam Small se vrou, is Vrydagnag deur die dokters na die hospitaal se hoësorgeenheid laat kom waar Small gelê het. Hy het niks gesê nie en het hom weer eens van haar liefde verseker. Sy het gesê dat wanneer sy aan haar ma dink, sy gedig "Nou vou ek jou toe" die eerste ding is waaraan sy dink. "Ek en Adam het dit amper in tandem geskryf."

Small word oorleef deur twee seuns uit sy eerste huwelik, John en Leon, sy vrou Rosalie en hul kinders Peter-John en Zaidee, asook agt kleinkinders.

Huldeblyke

    • Patricia de Lille: "It is with great sadness that I have learnt of the passing of one of our county's dear sons, Adam Small […] As a writer and poet, Small used his craft to highlight the oppression suffered by the working class under the apartheid regime. His works and writing were distinctly characterised by the Kaaps vernacular which he discovered when his family moved to Retreat. Rest in peace Adam Small. We will always remember you for your great contribution to literature and the struggle." (News24)

 

  • Breyten Breytenbach: "Mag Adam Small nou rus vind vir sy gefolterde gees. Die genoot met wie hy al die jare in gesprek was – die geskiedenis, die geloof, die wêreld van idees, maar veral met die vereistes van ’n etiese medemenslikheid – daardie gesprek sal voortgaan, al is dit dan ook slegs omdat ons uiteindelik nie ons ore en oë kon toemaak vir die diepgang van sy lyding en die ongemaklikheid van sy bevraagtekening nie. ’n Mens wil glo Small sal ontvang word deur die skadu’s wat hy aangehaal en opgeroep het, van wie hy die etiese impak van morele denke laat herleef het.

“Maar ’n mens weet ook die enigste werklike tot rus kom sal in hierdie wêreld moet wees, wanneer daar in alle eerlikheid besef en erken word watter byna onbeskryflike leed aan hom en sy mense berokken is bloot net omdat hulle in ’n waansin van kategorisering en uitsluiting bruin moes wees. En wanneer dié wat nog kan, alles moontlik probeer doen om te voorkom dat so ’n vernedering, sulke ontkenning en vervreemding, hierdie rassisme ooit weer gedoog word.

“Eintlik het Adam Small met slegs die staf van sy woord deur ons donker wêreld geloop. Maar hoe ryk en geskakeerd was daardie woorde nie! Dis familie wat wegval – dis die seun van Goree en die jong man van Wellington en die filosoof van die Kaap. Dis ’n digter wat nooit weer stil sal word nie. Graag hiermee my huldebetoon aan ’n beskeie meester, en die innige medelye van my en my vrou aan Rosalie en kinders aangebied. Ons treur saam met julle by die heengaan van hierdie voorbeeldige man, vader en mens." (Beeld, 27 Junie 2016)

    • Johann de Lange: "Vir die meeste van my generasie was die gedigte van Adam Small op skool die eerste kennismaak met bruin Afrikaans. As ek aan hom dink dan hoor ek immer daardie effens navrante klank in die stemme van sy sprekers. Wat kon verval het in bitterheid en woede, het hy getemper met humor en wysheid, en teregwysing. Die toekenning van die Hertzogprys aan hom het ’n laakbare oorsig reggestel, maar sy hertoetrede tot die literêre toneel het vir my iets van ’n Rip van Winkel-kwaliteit gehad: dinge het geweldig baie verander in die lang seisoen van sy swye. Sy opkoms vir Afrikaans, sy liefde vir Van Wyk Louw en Opperman, was deel van ’n intellektuele soort bestaan wat verby is, en hy is deur van die jonger bruin skrywers aangeval. Steeds het hy nie bitter geraak nie, maar met optredes, voorlesings, en e-pos-korrespondensie bly uitreik na medeskrywers. In ‘n vroeë e-pos vra hy, 'noem my asseblief Adam', ‘n versoek waaraan ek nie gehoor kon gee nie, maar vergun my om nóú, uiteindelik, te sê, 'Wel te ruste, Adam.' (Johann de Lange se blogspot)

 

    • Abraham H de Vries: "Small was groter as die tyd waarin hy gelewe het. Dit geld vir die ou era en vir nou. Sy agtergrond van liefde en vergewensgesindheid en menswaardigheid in ’n huis waar sy vader NG was en sy moeder ’n nooi Suleiman, het van hom ’n stryer gemaak teen magsmisbruik as sodanig. Adam sal onthou word en sy werk sal groei.” (Beeld, 27 Junie 2016)

 

  • Michael le Cordeur: "Adam was die inspirasie vir talle digters, akademici, onderwysers en studente – insluitend myself. Myns insiens moet die naam van Adam Small in dieselfde asem genoem word as Van Wyk Louw (aan wie se voete hy dikwels gesit het) en DJ Opperman. Hy was inderdaad een van die 'drie grotes' in die Afrikaanse kanon.

"Hy was ’n skrywer, digter, dramaturg, filosoof en baanbreker. 'Rigtingaanwyser en roetekaarteerder', sê Kivedo. Hy was ook my mentor. ‘’n Proefiet, sê ek djille, ’n proefiet van Jesus ...' skryf Charlyn Dyers (die eerste Makiet) op my Facebook-blad. Maar dié profeet was selde in sy eie land geëer, daarvoor was hy sy tyd te ver vooruit. En teen die einde was hy, in sy eie woorde, 'van alle haat ontdaan'. Hy het vrede gemaak voor sy vertrek. Ek gaan nou ophou huil.

"Suid-Afrika en Afrikaans het een van sy grootste seuns verloor. Adam Small is dood, maar sy woorde sal ons altyd by ons hê. Die Moses wat vir julle opgestaan het ... het opgevaar. Môre sal daar Kaaps gepraat word in die hemel. Ek verneem die mense van Distrik 6 wat hom vooruitgegaan het, het ’n reuse-'welkom tuis' vir hom gereël. Kanna is finaal hystoe. Tot wedersiens, prof Adam." (Beeld, 27 Junie 2016)

  • Heinrich Wyngaard: "Die Afrikaanse gemeenskap het vandag sy grootste pleitbesorger vir wedersydse begrip onder die wit en bruin sprekers van die taal verloor. Miskien, as ons sedert die begin sestigerjare na hom geluister het, sou Afrikaans nie vandag op soveel fronte onder beleg gewees het nie. Maar daar is geen tyd en plek meer vir leedvermakerigheid nie – en ek glo stellig hy sou dit ook nie so wou hê nie, want soos hy tereg in Die eerste steen? geskryf het, is niemand van ons meer sonder sonde nie.

En nou, 55 jaar later, sien ons waarskynlik vir die eerste keer werklik hoe sy pleidooi oor die noodsaaklikheid van medemenslikheid erns onder die sprekers van die taal geniet. Dit is ongetwyfeld die resultaat van Afrikaanssprekendes se strewe om hulself te bevry van toestande wat 'elke oomblik van elke dag soos ’n rasper pynlik oor ons gevoelens skraap'. Dié erns word vergestalt deur ’n inisiatief soos Afrikaans.com – en deur die feit dat ek my gisteroggend in ’n gesprek oor gemeenskaplike bemagtigingsaksies tussen bruin en wit Afrikaanssprekendes bevind het toe die tyding kom: Adam Small is hystoe." (Rapport, 27 Junie 2016)

  • Frederik de Jager: "En dekades later, ruim 40 jaar, gee hulle hom die Hertzogprys. Ek ry in my motor in Johannesburg en hoor oor die radio die boodskap wat sy vrou, Rosalie, namens hom voorlees. En al kom dit uit die mond van iemand anders, is die stem herkenbaar. Sy lankmoedigheid, sy vreugde en hartseer, sy wysheid en genade, en sy kwesbaarheid te midde van die ongenaakbare nuwe land waarin ’n golf van haat en woede terugstoot in antwoord op die vervreemding en verontmensliking wat die fondament daarvan is sedert 1948, 1913, 1652. En, man, ek huil daar in my motor. Die strate swem voor my. Die harde Johannesburg smelt ’n bietjie. Ek huil oor Adam Small, ja, en 'ammal die mense' van die Ses en op die Flats en verder weg op die plase, op donkiekarretjies in die Karoo, in tronke met nommers op hulle getatoeëer, in kerke soos ek en my ouers kerk gehou het in 1965, in die parlement, in raadsale, in lesinglokale. Ammal hulle wat die mooiste variante van die mooiste taal in die wêreld praat. Maar meesal huil ek oor myself en ammal 'my' mense, ons wit mense. Dat ons ons so in ’n hoek toegeverf het, ons eie so vervreem het, soveel pyn veroorsaak het en soveel gif in ons eie are ingespuit het. Hoekom, hoekom, hoekom?

"Vandag is daar Afrikaanssprekendes wat aanhalingstekens of die woord 'sogenaamde' gebruik wanneer hulle hulleself benoem. Maar dit moes andersom gewees het. Ons, sogenaamde wit mense, hoort in aanhalingstekens. Ons het Afrikaans toegeëien asof dit ons s’n is, maar Jan Rabie het lankal gesê Afrikaans is ons grootste veelrassige prestasie. En ek weet die woord 'veelrassig' is ook problematies, maar daar is nou eenmaal 'ons' en 'hulle', skynbaar ewig gefikseerde posisies.

"Uit dié troebel waters kom daar ’n suiwer stem sagkens. Sonder haat en sonder selfbejammering, maar ook sonder huiwering in sy oordeel. Dit verteenwoordig die beste wat ons kan wees. En ons kan geen aanspraak daarop maak nie, dit nie gryp nie, nie smoor nie, nie verdoesel of verdraai nie. Die strate staan in puin, maar die seuntjie Toefie speel nog tussen die bakstene. Hy is ons laaste hoop. Sonder hom is ons verlore." (Beeld, 27 Junie 2016)

    • Peter-John Small: "My pa was ’n besonderse mens. Waar ander mense van sy werke sin maak, het ek sin gemaak uit die mens wat my pa was. Hy het my geleer om te huil.” (Rapport, 27 Junie 2016)

 

  • Steward van Wyk: "Adam Small was jare lank die gewete van die Afrikaanse gemeenskap deurdat hy hom onverskrokke uitgespreek het teen politieke en maatskaplike onreg, die vergrype van ’n rasbehepte stelsel en die lot van die minderbevoorregtes. Sy drama Kanna hy kô hystoe is een van die mees afgeronde dramas waarin polities-maatskaplike kwessies binne ’n totale en vernuwende gebruik van teaterkonvensies verpak word. Die problematiek van die individu wat verskeurd is tussen sy eie aspirasies en dié van sy mense, die aanklag teen ’n sisteem wat mense in sosiale euwels vasvang, die aanspreeklikheid van die mens vir sy dade en die alomteenwoordigheid van die armes, is temas wat vandag steeds relevansie het.

Krismis van Map Jacobs bied ’n deurtastende ondersoek van skuld en aanspreeklikheid en kwessies van identiteit. (...) In die radiodrama The Orange Earth (1984) wat onlangs in ’n Afrikaanse vertaling uitgegee en opgevoer is as Goree, betrek Small aspekte van sy outobiografie in ’n ondersoek na die uitwerking van apartheid op persoonlike vlak en die verhoudinge tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes. Een van die hartroerende tonele is waar die moederfiguur gedwing word om agterom te gaan na die agterdeur om meel te kry.

“Ook in die digkuns het hy verruimende werk gelewer met die bundels Kitaar my kruis en Sê sjibbolet. Dit is veral met sy aanwending van Kaaps as medium dat hy ’n nalatenskap los.” (Rapport, 27 Junie 2016)

  • Beeld-hoofartikel: "Die stem van Adam Small (1936–2016) is nou stil, maar die stemme wat hierdie groot digter en dramaturg in Kaaps wakker gemaak het, sal bly praat met die gewete vanuit die wêreld van die armstes onder die armes. Die karakters in sy dramas (Makiet en Kanna, Map Jacobs, Joanie Galant, hulle almal), die hêpkêts en kitaarslaners en sangers in die gedigte, het in die Afrikaanse letterkunde ménse geword, Kaapse mense wat leef in en deur ’n variant van Afrikaans 'in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense dra wat dit praat; die volle lot, hulle volle lewe met alles wat daarin is'.

"Small, die rigtingwyser, fyn waarnemer en diep menslike oopmaker van die lyding wat so lank misgekyk is, het in 2012 die Hertzogprys vir drama ontvang. Nadat hy dekades moedeloos stil was oor apartheid, is hy met hartlikheid en waardering ­terug verwelkom in ’n groter gesprek, ’n gesprek waarin sy idees en werke ook vir ’n jonger generasie betekenisvol is. Inderdaad praat sy werke saam 'oor afstande, jare en die dood heen'. [...]

“Verskeie teaterproduksies, publikasies en eredoktorsgrade het Small se belang en sy nalatenskap help bestendig. Kernbelangrik in sy lewenswerk (en in enige setel of uithoek van die wêreldletterkunde) is die stemme wat onreg uitwys sonder om te beskuldig of te haat, ’n diepgaande sin vir medemenslikheid en naasteliefde. Sodoende bly sy voorbeeld ’n hoeksteen vir ’n soort saamleef in Suid-Afrika van 'voortbestaan in geregtigheid'. Small, die digter wat in 1957 met die bundel ­Verse van die liefde gedebuteer het, verdien ’n ­blywende plek in die gesprekke oor wat ons samelewing kán word." (Beeld, 28 Junie 2016)

    • Pieter Jooste, Pretoria: "Die heengaan van die Sestiger en Hertzogpryswenner Adam Small laat ’n groot leemte. Sy medesestiger DJ Opperman skryf in Negester oor Nineve: '... Jy is ’n vegter weer, van die begin, alleen ...' So ’n mens was Adam Small. Met sy sagte stem en sy weldeurdagte woorde was hy nooit bang om te sê wat gesê moes word nie, selfs al was dit soms as ’n enkeling. [...] Adam Small sal onthou word as ’n mens wat diep gedink het en altyd getrou was aan sy oortuigings wanneer hy geskryf en gepraat het. Sy bydrae en woorde sal vir altyd lewe." (Beeld, 28 Junie 2016)

 

  • Lynthia Julius, honneurstudent aan UV: "Ek dink nie ons kan jou ooit genoeg erkenning vir jou werke of denke gee nie. Maar vanaand sit ek Nama-musiek aan en Namastap op jou en jou werke omdat ek dankbaar is omdat dit is wat ons doen as ons vier. Ek sal my skoene om my voete vasmaak met woorde van die taal wat ons al twee lief het en die Afrikaanse pad verder stap. Ek is hartseer, maar ek weet geen digter se stem kan ooit stil raak nie. Jy is nou hystoe. Rus en weet jou swye en wroegings was nie tevergeefs nie. Rus en weet die Here het weer gaskommel en die dice het nie weer vikeerd geval, daai’s ma’ al.” (Volksblad, 28 Junie 2016)

Publikasies

Publikasie

Verse van die liefde

Publikasiedatum

1957

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: Culemborg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klein simbool: prosaverse

Publikasiedatum

1958

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kitaar my kruis

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1979
  • 1987

ISBN

  • 0798600608 (hb)
  • 0798622989 (hb)

Uitgewer

  • Pretoria: HAUM
  • Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die eerste steen?

Publikasiedatum

1961

ISBN

hb

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Sosiopolitieke kommentaar

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sê sjibbolet

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1978
  • 1981

ISBN

0628014325 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kanna hy kô hystoe

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1973
  • 1974
  • 1975
  • 1977
  • 1980
  • 1982
  • 1988
  • 1999

ISBN

  • 0624004228 (hb)
  • 0624013596 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Engels deur Carol Lasker, New Yorkse Universiteit

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oos wes tuis bes: Distrik Ses. Fotografie deur Chris Jansen

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1973
  • 1974

ISBN

079810239X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie met foto’s

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Black bronze beautiful: quatrains

Publikasiedatum

1975

ISBN

0949937185 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Ad Donker

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Joanie Galant-hulle

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1990

ISBN

  • 0628014651 (hb)
  • 0628034423 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Heidesee

Publikasiedatum

1979

ISBN

0628015291 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Krismis van Map Jacobs

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624022420 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys vir drama vir sy hele oeuvre 2012

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

District Six. Photographs by Jansje Wissema

Publikasiedatum

1986

ISBN

062010077X (pbk)

Uitgewer

Johannesburg: Fontein Publishing Co

Literêre vorm

Poësie met foto’s

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Klawerjas: gedigte

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624065456 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Goree (The orange earth in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Maria, moeder van God

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780928316193 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Vertalings deur Adam Small

Louw, NP Van Wyk: Oh wide and sad land: Afrikaans poetry of NP Van Wyk Louw. Cape Town: Maskew Miller, 1975 [ISBN 0623008742]

Keur van artikels oor en deur Adam Small beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Adam Small (1936–2016) appeared first on LitNet.

Kerneels Breytenbach (1952–)

$
0
0
kerneelsbreytenbach280
Foto © Naomi Bruwer

Gebore en getoë

Cornelis Tobias (Kerneels) Breytenbach is op 13 April 1952 in Emmarentia, Johannesburg gebore – die oudste kind van die gesin met een jonger suster, Elsebe. Sy pa, Braam, soms ook bekend as Breyt, was ’n skoolinspekteur in die ou Transvaal nadat hy die gebruiklike pad van onderwyser tot skoolhoof, ens. gevolg het. Hy het op die plaas Leliefontein tussen Carolina en Belfast grootgeword en was lid van die Breytenbach-tak wat van Swellendam via Humansdorp na die Transvaal getrek het.

Kerneels se ma was ’n nooi Schumann – haar pa was PWS Schumann, dramaturg van Hantie kom huis toe en Katrina, en op sy dag hoof van die Hoërskool Monument. Kerneels se ma was ook in die onderwys, onderwyseres aan die Hoërskool JG Strijdom en Suidheuwels (die omstreke waar die sepie Agter elke man afgespeel het).

“In my eerste vier lewensjare het my oupa Schumann nog by ons ingewoon ná die afsterwe van my ouma. My pa-hulle het in die nadraai van die oorlog vier groot erwe in New Redruth, Alberton gekoop, waarvan drie gebruik is vir vrugtebome. Dit was ’n klein paradys, en tussen dié boorde het ek gespeel. Sulke donker, vrugbare hoëveldse grond.” (Aan LitNet)

Kerneels vertel aan Murray la Vita: “(Daar was) altyd druiwe, altyd vye, appelkose ... hy het selfs mielies gegroei, aarbeie en dan nog groot hoenderhokke ook aan die een kant. Dit was eintlik ... dit was vreeslike idilliese, paradyslike kinderjare. Maar toe het dit te veel vir hom geword en hy het die plek verkoop. Ons het net een van die erwe gehou.”

Aan LitNet: “My oupa het in daardie jare homself besig gehou deur vir Nasionale Boekhandel boeke by skole te bemark. Ek het by hom in sy kamer met die groot boekrakke geboer – daar was altyd boeke. Hy het my verbeelding oopgemaak met die stories wat hy vertel het uit die ou klassieke (hy is een van die geslag wat nog Plato se Republiek in Grieks gelees het), en met die geïllustreerde kinderboeke van Nasionale Boekhandel en die ou JL van Schaik. Een wat ek spesifiek onthou, is ’n Duitse uitgawe van Heinrich Hoffmann se Der Struwwelpeter. Hy het dit nog saamgebring uit Duitsland waar hy kortliks voor die oorlog met nagraadse studies besig was voordat die rassehaat hom laat terugvlug het. My ma het speurverhale verslind, en ek het my eerste JT Edson-boek by my pa geleen.”

Kerneels woon die Laerskool Generaal Alberts by en voltooi sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Alberton in 1969. “Ons hoërskool was in daardie jare een van die Transvaal se top-presteerders en het puik onderwysers gelok. Die twee wat die grootste invloed op my gehad het, was Mafie Geyser, die Engelse onderwyseres (wat nogal ’n besielende soort mens was) en Johann (Tjol) van der Westhuizen, die wiskunde-onderwyser – ’n ongelooflike mens, en tragies vroeg oorlede. Ons klas was daardie jaar in die eindeksamen gemiddeld 10% bo die Transvaal-gemiddeld.”

Van Kerneels se herinneringe uit sy kinderjare is dié van New Redruth Fish & Chips wat net om die draai van die Laerskool Generaal Alberts was. “Dáár het my pa elke Saterdagmiddag vir ons vis en tjips gaan koop. Saterdagmiddag was vir my die kulinêre hoogtepunt van die week. Dit was die voorspel tot die aand se inry-bioskoop, en ek en my suster het baklei vir die leeue-aandeel van die tjips.

“Teen die tyd wat ek besig was met katkisasie, was ek al heeltemal verslaaf aan tjips. Ek het tydens die diens gemaak of ek my kollektegeld ingooi, en ná die katkisasieklas saam met ’n paar mede-katkisante op pad huis toe ons kollektegeld gebruik om ’n pakkie slaptjips met asyn te koop. Dit het maande lank aangegaan totdat ’n Van Rooyen-outjie ’n gaatjie onder in sy sakkie ontwikkel het en sy asyn met ’n boog oor my Sondagpak uitgespuit het. Sedertdien kan ek asyn slegs oor my lippe kry as dit hewig gemaskeer is.”

Hy beskryf sy ouers as uiteenlopende mense. “[M]y pa was joviaal en ontsettend lief vir die jongste skinnernuus. Sy skolekring was die Suid- en Oos-Transvaal, en ek het altyd die indruk gehad dat hy feitlik almal ken en weet watse kattekwaad hulle aanvang. My ma weer sou niks leliks van enigiemand sê nie, het glad nie geskinder nie, maar kon haar verkneukel aan my pa se stories. Wat my ouers wel spesiaal gemaak het, was dat hulle kinders as gelykes benader het – nooit neergepraat op jou nie.”

Kerneels se oupa se boeke het hom, nog voor hy kon skryf, laat besluit hy wil ’n skrywer word, en teen die tyd dat hy ’n tiener was, het hy al begin boeke koop met sy sakgeld. “Ek het nou nog die oorspronklike stel Fritz Deelmans en wens ek het vasgeklou aan my ou Swart Luiperd-, Trompie- en Keurboslaan-boeke!”

Sy eerste stuk skryfwerk was ’n Bybelse drama, Die sterre sal buig, wat in 1969 deur hulle matriekklas van Hoërskool Alberton op die planke gebring is, vertel hy op LitNet aan Lien Botha. "Gelukkig moes ’n klomp klasmaats my bystaan met die redigering, anders sou dit nooit op die planke gekom het nie. Wat wel lekker was, was dat my oupa die eerste opvoering kon bywoon."

Oor die oorsprong van sy liefde vir musiek vertel Kerneels: “Musiek is ’n ander storie. My ma het ’n musiekgraad op Stellenbosch verwerf, en het Engels op skool gegee en musiek tuis aan privaatstudente. Daar was altyd musiek in die huis. Fritz Potgieter, een van my pa se vriende, het my eerste plate as geskenke aan my gegee toe ek vier was: Harry Belafonte se ‘Banana Boat Song’ en Chris Blignault se ‘Bosveld Bul’ (met ‘Kom dans nou saam op die Nuwe Jaar’ aan die ander kant). Ek het nie voor my ouers na LM-radio geluister nie, maar by die bure. Só het ek versot geraak op Elvis, die Beatles, die Stones en veral die Beach Boys. Ek het eers laat in die laerskool voor my ouers na rock geluister, en was verbaas toe my ma ook van die melodieë hou.”

Verdere studie en werk

In 1970 is Kerneels weermag toe – na Geneeskundige Dienste te Voortrekkerhoogte. Hy vertel dat die kamp oorvol was en dat die weermag redes gesoek het om mense medies ongeskik te verklaar. “Ek is glad nie lief vir militêre dinge nie, en hulle het met my saamgestem dat ’n letsel wat ek met ’n sonsverduistering opgedoen het, my baie ernstig kortwiek. Hulle het ook mense met asma en plat voete vrygestel. Toe moes ek blitsvinnig ’n besluit neem. My neef, Peter Schumann, het in Bloemfontein ingeskryf om te gaan leer vir argitek. Ek dag ek sou sy voorbeeld volg, maar die enigste universiteit waar daar nog plek was, was Natal s’n in Durban. Binne twee maande het dit tot my deurgedring dat ek op pad na groot ellende was (Fisika het gelol), en het ek stert tussen die bene huis toe gevlug.”

Hy het die res van die jaar as kassier by Volkskas gewerk en genoeg tyd gehad om te kon insien wat hy met sy lewe wou doen. In 1971 is hy na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom vir ’n BA-graad ingeskryf het. In 1975 verwerf hy sy MA-graad met die verhandeling “Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde” onder DJ Opperman. Die besluit om aan die US te gaan studeer was ’n voortsetting van ’n tradisie: sy ma se mense, die Schumanns, is ’n ou Bolandse familie met diep verbintenisse met Stellenbosch en met die universiteit.

Kerneels was die laaste student wat ’n MA by DJ Opperman gekry het voor sy koma; ná Opperman se herstel, toe Kerneels reeds by Die Burger was, het ’n ander soort vriendskapsband tussen hulle ontwikkel. Opperman was aanvanklik vir hom ’n groot enigma. “Hy was nie naastenby so aangrypend agter die podium as WEG Louw nie, maar tog het hy, waarskynlik danksy sy status as digter en boheem, daarin geslaag om mens deeglik te toets en te besiel. Ek was wel deeglik daarvan bewus dat Opperman ná die koma ’n heeltemal ander mens as daarvoor was. Voor die koma was hy kamerasku, daarna was hy die een wat versoek het dat ons ’n foto moes kom neem van hom terwyl hy herstel. Die foto het nogal opspraak verwek, maar hy was tevrede daarmee. Opperman het my beïnvloed om die letterkunde op ’n sekere manier te benader, maar sy invloed was nie naastenby so groot op my soos dié van JJ Degenaar nie.”

In Junie 1977 is Kerneels met Carien Hoffman getroud. Hy het op universiteit met haar suster Jalna uitgegaan, maar sy was lankal vergete toe hy Carien weer sien. Carien was lank grafiese kunstenaar en het ook juwele gemaak en is ’n baie goeie fotograaf. Hulle het twee kinders, Jana en Braam. Jana aard meer na Kerneels as na Carien en het dieselfde humorsin as haar pa. Sy sien humor in die vreemdste situasies. Jana is tans verslaggewer by Die Burger. Braam was as kind meer sagmoedig en, soos sy ma, kan hy dit nie verduur dat ’n probleem onopgelos bly nie.

Carien is in Maart 2016 aan mondkanker oorlede. Kerneels het aan Marelize Barnard van Die Burger gesê dat Carien ’n droomvrou was, baie belese met ’n baie lewendige belangstelling in die kunste.

Na universiteit begin Kerneels werk as joernalis by Beeld in Johannesburg en later by Die Burger. Hy word as kunsredakteur aangestel (1976 tot 1989), en sonder Victor Holloway as sy mentor uit. In ’n onderhoud met Suzette Truter beskryf Kerneels die koerantwerk, veral die soort by die kunsredaksie, as "ongelooflik stimulerend”. “Ek het die geluk aan my kant gehad, want ek hou van nuwe dinge en by Die Burger het die lewe presies dit gebied: elke dag iets nuuts."

Onderhoude waarvan Kerneels gehou het, al het dit nie altyd goeie kopie opgelewer nie, was dié met Dollar Brand (voordat hy Abdullah Ibrahim geword het), Wilma Stockenström, Ross Devenish, Goldie Hawn (in haar hotelsuite in die ou Landdros-hotel, waartydens haar bedgenoot skielik die kamer binnegeloop het – “Ek sal liewer nie sê wie nie”), Dennis Wilson van die Beach Boys, Milos Forman, David Brown, David Kramer, Pieter Fourie, Hennie Aucamp, Chris Rea (“Ons het heeltyd gesels oor ons babas”), Jan Scholtz en Con de Villiers.

Suzette Truter skryf verder: "Tydens sy jare as joernalis kon jy Kerneels se onvergelykbare skryfstyl altyd uitken aan sy ewe onvergelykbare humorsin. Hy was ook vir baie mense sinoniem met musiek. Hy het immers ’n hele generasie se musieksmaak beïnvloed met sy jare lange musiekrubrieke op die kunsblad (“Byklanke”) en in Huisgenoot."

En sy eintlike passie in die lewe ís musiek: “By Koos (Prinsloo) het ek leer luister na Arvo Pärt en Chett Baker, die trompetblaser wat ook gesing het. Koos het van sy plate gehad waar hy sing in so ’n desolate stem. Dit was fantastiese musiek. Vir my was dit altyd ’n plesier om by Koos te gaan kuier, want hy het hierdie fantastiese musiek gehad," vertel Kerneels aan Murray la Vita (Die Burger, 13 Februarie 2009).

Sy resensies oor daardie tyd se popmusiek het hy aanvanklik met oorgawe geskryf, en later alleen uit genade; in 1993 het hy egter opgehou, omdat hy besef het hy is te oud. “Jy kom agter jy kan nie meer soos ’n tiener dink nie en jy verstaan nou wat jou plek in die kosmos is. Die boekewêreld het ál meer aandag geverg; ek het nie meer tyd (gehad) om te analiseer hoekom Acid House meriete (gehad) het nie.”

Daar was baie hoogtepunte in die jare waartydens hy “Byklanke” behartig het, vertel Kerneels aan Emile Joubert (Die Burger, 7 Mei 1993). “Daar's verskillende soorte hoogtepunte. Soos die brief van ‘Heavy Metal Freaks’ in Kroonstad wat my met die dood gedreig het as ek nie my mening oor Def Leppard en Judas Priest verander nie. Dan was daar Bles Bridges wat verseg het om te glo dat ek ’n suster het en dat sy dol is op sy musiek. Of die dag toe Cora Marie in Die Burger se kunskantoor ingestap het en daarop aangedring het om my ’n soen toe te dien. Of my heel eerste jazz-resensie vir Die Burger, in September 1976, van ’n Dollar Brand-konsert, en hoe sy warme reaksie daarop baie dinge vir my verander het.”

Voorvalle wat hy wil vergeet, is albei kere dat hy deur Ipi Tombi moes sit en die kulturele boikot en die manier waarop dit alle plaaslike musici benadeel het. “Dan het ek ook Cher se Sun City-konsert misgeloop. Maar die grote was dat ek nié by was toe Freddie Mercury voor ’n klomp joernaliste ’n carry pack-bier op Jan Smuts-lughawe sit en uitdrink en toe oor die tafel siek geword het daarvan nie.” Hoewel die kulturele boikot sy blootstelling aan internasionale popsterre beperk het, is local darem ook lekker. “Daar's baie myle tussen Jurie Ferreira en Johannes Kerkorrel. Die ontwikkeling was alles ten beste, veral die sogenaamde ‘alternatiewes’.”

Hy vertel aan Corné Coetzee dat dit nou vir hom baie lekker is om te skryf oor die musiek van pre-1990's op sy blog "Naklanke" op LitNet: “Dis wonderlik wat ’n mens kan regkry met behulp van YouTube se videogrepe – ek skryf oor musiek waarvan ek hou en illustreer dit met videogrepe. Ek luister nie meer aaneen soos twintig jaar gelede nie, maar daar is selde stilte in ons huis.”

Hy is in 1989 na die uitgewery Human & Rousseau en toe hy daar instap, het hy besef hy weet niks nie. “Dit hou jou op die aarde en leer jou met ander oë kyk na dinge waaroor jy voorheen skepties was.” By Human & Rousseau was Koos Human, een van die stigters van die uitgewersmaatskappy, Kerneels se mentor en by Koos het hy baie ander truuks geleer as net oor die uitgewery. In 1994 volg Kerneels vir Koos amptelik op as hoofbestuurder van Human & Rousseau.

“Koos het vir my heel in die begin twee goed gedoen: Hy het vir my twee boeke gegee om te lees en daarna die kontrak gegee wat met skrywers aangegaan word. En so ’n kwessie van ’n week daarna het ek en hy eendag gaan sit en eet en hy het vir my verduidelik (...) wat (die kontrak) alles beteken. As jy die skrywerskontrak van ’n kant af vat en jy lees hom behoorlik, dan weet jy eintlik álles wat aangaan in ’n uitgewery en wat daar behóórt aan te gaan,” vertel Kerneels aan Murray la Vita. (Die Burger, 13 Februarie 2009)

“Jy weet, dis ’n vreemde ding, maar die verhouding tussen die skrywer en die uitgewer; uitgewer en skrywer; hoe beskerm die kontrak die twee teen mekaar; met ander woorde: watse voorregte het die een en watse verpligtinge het die ander een. Dis dáái ding. En dan weet jy presies wat die werk behels. En toe ek dit nou eers agter die blad het, toe weet ek ek gaan nooit weer terug koerante toe nie.”

Oor die kuns van uitgewer wees vertel Kerneels aan Murray la Vita dat ’n groot deel daarvan is om ’n “móérse respek” te ontwikkel vir ’n die persoon se skryfwerk en vir sy privaatheid, “maar ook naby genoeg te wees om binne daai privaatheid te operate deur die persoon te hélp of te beskérm of aan te moedig om net weer aan die gang te kom.

”Jy weet Koos (Human) self het vir Etienne Leroux gewéldig baie beteken. Selfs so ver gegaan in die ou dae as Leroux ’n manuskrip gelewer het, het hy afgekom Kaap toe en dan het hulle ’n week lank al twee ’n kamer gevat in die Metropole Hotel daar in Langstraat. En dan het hulle in die hotel gesit en í­n daai week het hulle daai manuskrip van ’n kant af deurgewerk en hom reggekry.

“Baie skrywers kan jy nie só hanteer nie, maar jy moet tog weet om iets soortgelyks vir hulle te kan doen. André Brink, byvoorbeeld, gee vir jou ’n manuskrip wat, danksy die manier wat hy skryf – Afrikaans-Engels tegelyk – al so goed gestruktureerd en deurgedink is dat jy nooit rêrig eintlik vir hom hoef te sê: ‘Man, jou slot werk nie; skryf dit oor’, nie.

“Jy kan by André hoogstens vir hom sê, soos ek gemaak het met Duiwelskloof ... vir hom sê: ’Man, jy’t hier ’n misdaadjoernalis wat nooit bliksem sê nie.’

“By Karel Schoeman, weer, soek jy eintlik net vir tikfoute in die manuskrip. Jy peuter nie daaraan nie. Breyten ... dit is ook ’n digter wat so goed nagedink het oor sy goed, dis eintlik ’n belediging om vir hom te sê: man, luister die gedig werk nie vir jou nie, want jy weet die fout lê eintlik by jou, nie by hom nie.”

Kerneels praat met Murray la Vita oor wyle Koos Prinsloo en onthou die aand toe hy die manuskrip van Slagplaas by Prinsloo se woonstel in Hillbrow gaan haal het en hoe hy terug is na sy blyplek, waar hy tot laat die nag aan dié “geweldige sterk, brutale, emosionele bundel” gelees het.

In April 2001 het Tafelberg en Human & Rousseau saamgesmelt onder die NB-Uitgewers-vaandel, met Hannes van Zyl as hoofbestuurder en Kerneels as publikasiehoof.

In 2009 het Kerneels afgetree en het hulle ná jare as Kapenaars in Kloofnekweg na ’n huis tussen die see en die vleie van Bettysbaai verhuis.

Maar Kerneels is nie net uitgewer nie. In 1992 word sy bundel kortverhale, Morsdood van die honger, gepubliseer en in dieselfde jaar met die CNA-Debuutprys bekroon. Hennie Aucamp het hom soos volg oor Kerneels se verhale uitgelaat: “Sy speelsheid is ’n gevaarlike frenetiese gewals op die rand van die afgrond.”

Kerneels skryf baie van die sukses van hierdie bundel toe aan sy beoefening van die joernalistiek: “Dit maak jou vingers los en jou selfvertroue sterker,” verduidelik hy aan Emile Joubert (Die Burger, 7 Mei 1993). Hy het hierdie bundel beskryf as kortverhale wat probeer aantoon dat die ergste apartheid (seksueel, godsdienstig, sosiaal, polities) dié is wat jy in jou gedagtes bedryf.

HJ Pieterse skryf dat Kerneels met Morsdood van die honger as satirikus baie ontwikkel het en dat hy, soos enige ander satirikus, alle heilige koeie aansny. “Om die waarheid te sê: ná dié boek sal die naaste heilige koei in die omstreke van die Ganges gesoek moet word. (...)

“Alles en almal loop deur onder Breytenbach se pen: wittes, swartes, gays, feministe, kultuursnobs en pretensieuses (‘Die teater van bloed’), godsdiensdwepers, Afrikaanse liedjies, en, veral natuurlik, politici. Kortom, die hele Suid-Afrikaanse samelewing kom onder skoot.” Pieterse meen dat die gehalte van die verhale wissel, maar dat daar selfs in van die mindere verhale heelwat passasies is om die leser se lagspiere te prikkel. Die verhale word verbind deur onder meer figure soos Chelodie Davel/De Villiers, Broer Shawn, OD Hardon en Realdus Columbus wat herhaaldelik in verskillende verhale optree."

Abraham de Vries (Die Burger, 8 September 1992) voel dat daar laas in Afrikaans by Etienne Leroux so ’n “redelik ondeugdelike, komieklike stoet” bymekaar was. “Die satirikus, sê Walters iewers (en hy behoort te weet), is heimlik ’n idealis, in diens van die genesing van menslike booshede. Wat Aucamp waarskynlik in die oog had, is dat daar onderliggend aan hierdie skeefbekykte karakters, aan selfs die hilariteit, die breër konteks van ‘inherente dekadensie’ is; patrone van ’n afloop, ’n eindtyd, verwant aan die laat-romantiek van die einde van die vorige eeu: die ‘cherishing of the unnatural’. Dat juis Aucamp dit raaksien, verbaas nie, want dáárin is sy eie verhale (hoe verskillend ook sy aanslag en stem) verwant aan dié van Breytenbach. (...)

“Dis in die skep van fantastiese situasies wat Breytenbach homself oortref. Insinkings in die vertel is die onvoorbereide, dus moeilik interpreteerbare slot van die titelverhaal, grootliks ’n oorvertelling van Dahl se ‘Taste’. (...) Maar as dit kom by die werklik goeie verhale, (...) sê hierdie resensent: Sny ’n stadige lyn; dis kos vir diegene wat die lag nog nie afgesterf het nie, wat hulle in ongeregtigheid nie verheug nie, en wat by die herken van die ondeugdelikhede nie vir genadeloosheid skrik nie. Daar’s nie baie sulkes in Afrikaans nie.”

Cecile Cilliers skryf dat die veertien verhale van uiteenlopende aard en ongewone inhoud in Morsdood op interessante wyse tot eenheid saamgesnoer word. “Sekere karakters kom naamlik by naam in etlike verhale voor, maar in wisselende situasies en omstandighede. (...) By dié bindende effek, prikkel en verras hierdie werkwyse, én boei dit.

“En binne die satiriese raamwerk kom daar ’n belangrike allemansidentifikasie tot stand, sodat én situasies én karakters die ganse samelewing geld. ‘Mnr X hou braaivleis’ is ’n goeie voorbeeld: die alomteenwoordige dood en die samelewing se groeiende disrespek word skitterend verbeeld in die steeds meer bisar verloop van die verloop, en die oop einde.

“Breytenbach het ’n verbasende vermoë om die leser, meteen, in die eerste paragraaf, in die verhaal te laat beland, en om maksimale inligting met ’n minimum van woorde te verskaf. ’n Vermoë wat hy ongelukkig nie deurgaans benut nie. Van die verhale is gans te lank sodat, die prikkelende ongewoonheid ten spyt, belangstelling verflou.

“Kerneels Breytenbach kyk met ’n skuins blik na die mensdom, en hy skryf en béskryf om te skok. En die resultaat skok wel, én amuseer, want hy ken die kuns van koddige segging en vergesogte situasies. Maar ’n werklik geslaagde satirikus, in my woordeboek, moet ook deernis toon, empatie, bý die skerpte. En dit ontbreek in hierdie bundel geheel en al. Die verhale is bitter goed, bitter snaaks, en bitter. Net dit. Bitter.”

In Zuid-Afrika van Maart 1993 skryf Hans Ester dat Kerneels Breytenbach ’n begaafde en selfs virtuose skrywer is en dat die bundel sy talent bewys. Hy voel egter dat Breytenbach se volgende boek minder grotesk en selfs positief moet wees.

En hoewel Gretel Wybenga (Beeld, 16 November 1992) voorbehoude gehad het, voel sy daar is te veel wat goed en lekker in die bundel is om dit nie ter hand te neem nie. “Enige gesonde samelewing móét ’n hofnar hê wat met lag en spot konings van trone mag afhaal. Welkom aan ons eie hofnar, Kerneelsie!”

Glimlag, Kerneels se eerste roman, word in 1993 uitgegee. Hierdie roman is een van die min romans in Afrikaans waarin populêre, oftewel popmusiek as deel van die struktuur van die roman gebruik word.

Kerneels vertel aan Willem de Vries op LitNet meer oor die ontstaan van Glimlag: "Dit is struktureel gevorm deur ’n ou speurroman van EC Bentley getiteld Trent’s Last Case, maar die titel is ’n direkte verwysing na die Beach Boys se Smile, wat nooit uitgereik is nie, maar waarvan ek ’n roofopname het.

“Baie van die hoofstuk-opskrifte is Smile-liedjies. Smile had ongelukkig minder snitte as wat Glimlag hoofstukke het, dus het ek by die Beach Boys se voorafgaande LP, Pet Sounds, gaan leen. Met die lirieke het dit effe anders gegaan: ek het enigiets geneem wat daardie sardoniese afstand kon help vestig – banale gedagtes, nooit aangehaal uit werklike Afrikaanse liedjies nie, maar in strekking en sfeer vanuit die Afrikaanse musiek-dampkring. In ’n vroeë draft het ek FAK-liedjies gebruik, maar dit was té styf en formeel. Ek wou iets gehad het wat oënskynlik diep dinge sê, maar in wese flou en geweldig oppervlakkig is.”

In Glimlag is Trens Phillips die hoofkarakter en een van sy karaktereienskappe is dat hy te eniger tyd mense en situasies reduseer tot lirieke wat eie is aan die gewilde Afrikaanse musiek. Willem de Vries skryf verder: "Kerneels beaam dat hierdie sardoniese draakstekery ’n hoofbestanddeel van Glimlag is. Hy wou hê die leser moet van Trens en Quarta (die hoofkarakter se groot liefde) hou, maar wat die res betref, moes hy/sy baie bewus bly van almal se feilbaarheid. By sommige wou hy hê dat dit duidelik moet wees dat hulle verteenwoordigend is van tipes Afrikaners: ambisieuse, korrumpeerbare mense."

De Vries het dit aan Kerneels gestel dat die lirieke “so kenmerkend prosaïes is van vele ligte musiek in Afrikaans en dat Afrikaanse musikante hier aan die kaak gestel word sonder dat name genoem word”. Kerneels se antwoord was: "As iemand sou sê hier is nou ’n geval van ’n oudmusiekresensent wat die Afrikaanse musiekbedryf die middelvinger wys, maar dit met fiksie verbloem, is dit beslis waar. In die eerste draft was daar ’n lang stuk oor Cora Marie, die country-sangeres. Ongelukkig kry sy toe kanker en het die boek se redakteur gevoel dit sou swak smaak wees om die deel in te hou. Maar ek het in daardie stadium baie beslis genoeg gehad van Afrikaanse musiekkunstenaars. Ek was in die tweede laaste jaar van my termyn as Huisgenoot se popresensent, en in daardie stadium het die hele luisterlied-beweging in sy eiewaan versmoor, en was Afrikaanse musiek besig om geweldig onopwindend en selftevrede te word. My liefde vir popmusiek was altyd daarin gesetel dat ek altyd soek na iets nuuts en iets vernuwends. In die vroeë negentigs was dit ’n skaars ding in Afrikaanse musiek. Ek het dit ook ’n stap verder gevoer deur baie van die dinge in die roman in verband te bring met werklike Afrikaanse films. Aan die een kant die musiek en hierdie menslike smagting om te sing en te besing, al is dit hoe vrot, en aan die ander, die romanwêreld wat gelyk gestel word aan aardsetter-flieks en -karakters wat, om die minste te sê, wêreldvreemd is.”

De Vries het ook gesê: "Dié soort kensketsing en vervreemding deur liriek is sentraal tot die humor van die boek. Die glimlag is eerder grimas. Watter ander musiekidees is in die roman bygewerk?"

“Daar was in 1990 in die tydskrif Q ’n beskrywing van ’n klankateljee, Karl Wallinger se ateljee," sê Kerneels. "Dié het ek gebruik vir die ateljee in Glimlag. Die dinge wat tóé so wonderlik was, is nou alledaags. Vir die slot het ek aan twee dinge gedink: die middelste deel van die Smile-liedjie ‘Cool cool water’ en Gavin Bryars se komposisie Sinking of the Titanic, waarin hy die skip se orkes laat voortgaan met die speel van ‘Autumn’ onder die water. Mense wat bekend is met die verse van Rilke, sal dwarsdeur die roman verwysings na sy Duino-elegieë opmerk.” 

Na Gunther Pakendorf (Die Burger 23 November 1993) se mening is daar heelparty raakpunte tussen Glimlag en Morsdood van die honger. "Soos sy voorganger speel Glimlag in die onmiddellike hede in die Kaap af en toon eweneens ’n sterk satiriese neiging wat hier en daar bisarre en groteske vorme aanneem. In ’n ander opsig sluit dit aan by ’n duidelike waarneembare kenmerk van die jongste Afrikaanse prosa, en dit is dat die verdwyning van apartheid skynbaar groter beweegruimte en dus ’n ongekende oplewing van kreatiwiteit onder Afrikaanse skrywers veroorsaak het. (...)

“In wese is Glimlag ’n kombinasie van speurverhaal en triviale liefdesverhaal. Kort nadat Helen Mills as Sakevrou van die Jaar aangewys is, verdwyn sy op geheimsinnige wyse. Die koerant, Ons Stem, berig eers verkeerdelik dat sy vermoor is, maar pas nadat die berig reggestel is, word haar lyk in geheimsinnige omstandighede gevind.

“Dit is die begin van die ondersoek deur Trens Phillips, vryskut-joernalis en popmusikus, wat hom al dieper in die militêre en politieke knoeispul van die land laat inbeweeg. Terselfdertyd beland hy in die arms van die beeldskone Quarta Prins saam met wie hy die een en ander avontuur beleef.”

"Glimlag mors behoorlik met die ou Suid-Afrika en gooi sommer ’n paar ander temas by. Dit is dus ’n satiriese bredie met ’n verskeidenheid bestanddele wat aan die leser opgedis word. Die vernaamste een is die Afrikanerpolitiek, knoeiery, korrupsie en al, wat ten spyte van sy kitsch-vertoonsug, nie stuit voor kriminele aandadigheid nie.”

Die skrywer raak ook heel geniepsig oor die Afrikanerkultuur en daar word ook verwys na die Afrikaanse joernalistiek, gewilde kultuur soos popmusiek en Afrikaanse rolprente en die staatsdiens. Hy maak ook weer gebruik van karakters wat al in van sy kortverhale gefigureer het en ander karakters het bekende name soos Sonny Corleone, Sonja Groesbeek, Joey en Gert van Rooyen.

Maar vir Pakendorf is Glimlag oorhaastig geskryf en was die redigering nie deeglik genoeg nie. Hoewel hy tydens die leesproses baie keer lekke gelag het, moes hy net soveel keer terugblaai om die verband tussen verskillende episodes of karakters na te gaan.

In sy resensie in Rapport het JC Kannemeyer geskryf dat Breytenbach vrek goed skryf, maar dat wat hy skryf, vir hom, Kannemeyer, nie aanstaan nie. "Ek erken dat ek persoonlik reageer en dat dit ’n groot fout is. Vir sommige mense mag die soort satire en die soort seks van Glimlag snaaks wees, maar vir my was dit kru en aangeplak; diegene wat genoeë neem met al die vlugtige stukkies geestigheid en die politieke toespelings sal die boek egter geniet."

Tom Gouws meen dat hierdie debuutroman van Breytenbach in dieselfde trant is as sy resensies van films, restaurante, boeke en musiek – "stout en stuitig, maar intelligent en ingelig, met with-it slengfrases, klinkende stukkies taal uit die lospraatjies van elke dag. Die vertelhouding is sinies, boosaardig, grynsend. Die “glimlag” van die titel is ’n sardoniese beskrywing van die verteller se grynslag terwyl hy vertel. Gouws is egter van mening dat die fiktiewe verklarings van werklike landsprobleme van daardie tyd ’n vertelling van oordrewe selfgenoegsaamheid bly. Die beterweterigheid en gemeensaamheid van die alwetende verteller irriteer op die lang duur."

LS Venter (Beeld, 22 November 1993) sluit sy bespreking af met: “Daar is gesê dat ons tyd nie meer die tragiese toelaat nie. Al wat moontlik is, is die komiese: óók as die skrywer ernstig is. Glimlag val in die genre van hierdie komedie van die erns. As dit laat lag, goed. Maar dit wil eintlik laat dink. Kerneels Breytenbach laat na my mening albei gebeur.”

Oor die negatiewe dinge wat resensente oor Glimlag geskryf het, vertel Kerneels aan André le Roux (Die Burger, 23 November 1993) dat die eerste paar resensies wat jy lees, jou geweldig ontstel, maar dan moet jy maar jou eie raad aan ander skrywers volg: dat dit net ’n persoonlike mening is. “Ek dink nie Glimlag is ’n foutlose roman nie, maar ek dink ook die resensente het nie werklik gesien wat hulle behoort te gesien het nie.”

Kerneels het in 1997 aan Suzette Truter vertel dat wat sy skryfwerk betref, hy ná Glimlag heeltemal tot stilstand gekom het. "Daar kom manuskripte by jou as uitgewer verby wat jou laat nietig voel, wat jou laat dink jy moenie jou naam krater maak deur te skryf nie; laat dié maar aan die regte skrywers oor. Maar aan die ander kant is dit baie inspirerend. Dis ’n plesier om in die kantoor in te stap en ’n pakkie daar aan te tref, soos ’n nuwe roman van André Brink of Karel Schoeman. Of iets opwindends deur iemand van wie jy nog nooit gehoor het nie, maar jou van die eerste sin af vasgryp. En dat ek een van die eerste mense in die wêreld is wat dit gaan lees.”

Oor die gewilde Harry Potter-reeks wat Human & Rousseau in Afrikaans laat vertaal het, was Kerneels in ’n polemiek met Maretha Maartens betrokke. Maretha het in die rubriek “Soos ek dit sien" in Volksblad onder meer geskryf dat hoewel Potter “in die goeie leef, hy boosheid bemin en dat ouers twee keer moet dink voordat hulle dié boeke vir hul kinders vir Kersfees koop”. Sy het in Rapport gesê haar rubriek is onvolledig en nie in die regte konteks aangehaal nie. Sy het ook verwys na wat JK Rowling in ’n onderhoud met Time te sê gehad het, iets waarna Breytenbach (in Rapport) nie verwys nie. Breytenbach het gesê sy kry haar inligting in die satiriese internet-koerant The Onion, wat feite fabriseer.

“Ek het ’n baie groot bewondering vir die fantasiewêreld wat JK Rowling geskep het. Maar wat ek aangehaal het, staan in swart op wit,” het Maartens gesê. Hoewel dit eintlik “nie vir publikasie is nie”, sê sy Breytenbach moet maar met “sulke groot kanonvoer skiet as hy wil” in sy opmerking dat hy haar integriteit bevraagteken. Wat het geword van die feit dat elkeen op ’n meniung geregtig is, het sy gevra. “Weer eens, ek kan nie my bewondering vir JK Rowling se werk genoeg uitspreek nie. Maar dit gaan oor wat sy gesê het.”

Kerneels het gemeen dat Maartens moet erken dat sy mislei is deur The Onion en dat sy net die gedeelte van Rowling se onderhoud met die Amerikaanse nuustydskrif Time gebruik wat haar argument pas. “Lees ’n mens die hele paragraaf in die onderhoud en jy sien wat Maartens weggelaat het, besef jy dat Maartens besig is met ’n baie slim, maar nogtans gemene spel,” het Kerneels gesê. Hy het gevoel dat sy die eerbare ding moet doen en die publiek wat haar ondersteun het, moet inlig dat nóg Rowling nóg die Harry Potter-boeke enigiets met satanisme te make het.

In antwoord hierop het Maartens in ’n brief aan Volksblad geskryf dat sy nóg slim, nóg berekend was, maar dat sy, soos die meeste ander denkende mense, net na antwoorde soek. Sy haal dan voorts passasies uit die Harry Potter-boeke aan om haar sieninge te staaf.

Kerneels was darem nie heeltemal stil wat kreatiewe skryfwerk betref ná die publikasie van Glimlag nie. Hy het ’n paar stories geskryf wat in versamelbundels opgeneem is en nêrens anders beskikbaar is nie. In 1998 is “Oorlog ter plaatse”, ’n anti-oorlog-, antimilitêre stuk opgeneem in Boereoorlogstories wat deur Jeanette Ferreira saamgestel is en deur Van Schaik uitgegee is. ’n Liefdesverhaal, “Die einde van die pad”, is opgeneem in Liefde loop ver, wat ook deur Jeanette Ferreira saamgestel is en in 1999 deur Human & Rousseau uitgegee is. Piet Roodt het ook ’n stuk opgeneem in Granaat en Kerneels het vir Queillerie bydraes gelewer vir die bloemlesings van skrywers se reaksie op die verkiesing van 1994 en die bestekopname daaroor ’n jaar later: 27 April 1994: ’n Skrywersdagboek en 27 April een jaar later.

In 1987, by die viering van die Baxter-teater se eerste tien jaar, het Brian Barrow en Yvonne Williams-Short ’n bloemlesing getiteld Theatre Alive! saamgestel. Kerneels se bydrae was “What the critic should know about the theatre”.

In 2001 het Kerneels se humorsin aanleiding gegee tot die publikasie van Die skoon grapboek. Oor die grappe in die boeke sê hy dat min van die grappe oorspronklik genoem kan word. “Of dit nou op die internet of papier is, daar is min grappe wat nie baard het nie. Grappe wat oor Stalin vertel is, word deesdae oor George W Bush en Tony Blair vertel. Koos van der Merwe en Mike Schutte het ’n Ierse neef genaamd Paddy. Ek het die meeste van hulle verplaas na ’n landelike omgewing in Mpumalanga. Hopelik sal baie daarvan vir ons lesers onbekend wees.” (Uit ’n inligtingstuk van die uitgewers.)

Hy is trots op die feit dat al die grappe, ofskoon baie van hulle in kroeë afspeel, aan jou ouderling of dominee vertel sal kan word tydens die volgende huisbesoek.

In Die skoon grapboek het Kerneels as ’n soort teenhanger vir Leon Schuster se versameling doelbewus net “skoon” grappe oorvertel, vertel hy aan Corné Coetzee (Beeld, 18 Februarie 2010). “Dit spaar ’n mens ook al die verdriet van kinders wat hul skaam vir hul skurwe pa. Maar algaande het ek besef dat ek ’n effens meer gewaagde versameling ook sou kon saamstel. Een wat bronstig is sonder om smerig te wees. Ek is versot op James Thurber se humor, en die titel kom direk van een van sy skeppings af.”

In 2009 verskyn toe Die ding tussen man en vrou, nog ’n grapboek. "Ek vermoed dat dit is omdat ek, soos enige ander mens, lief is vir die ontlading wat humor bring en met verloop van tyd agtergekom het dat Afrikaners taamlik skatologies in hul humorsin is, maar dat daar gelukkig meer aan ons humor is as die gatkant van die wêreld. Daar is ook ’n magdom seks-, skoon, rassistiese, seksistiese en siek grappe." (Die Burger, 16 Oktober 2010)

Kerneels staan ook bekend as ’n smulpaap en in sy hoedanigheid as restaurant-resensent – alias die pittige Braam Kleinhans – het hy almal se lagspiere geprikkel. En hy het oor die jare ’n groot kosliefhebber gebly en in Insig ander kosliefhebbers aan ’n groot verskeidenheid restaurante bekendgestel.

In 2005 gee hierdie liefde op aandrang van Leserskring aanleiding tot die samestelling van Die lekkerste lekker, ’n resepteboek wat Madeleine van Biljon (Volksblad, 11 Januarie 2006) as volg beskryf: “Daar is inderdaad baie gesellige resepte, sommige geyk, sommige kraakvars en heel oorspronklik. Elkeen wat onder ’n bekende se naam verskyn, dra die amper proebare stempel van die persoonlikheid – van wyle Rufus Kenney se werklik topklas-tamatiebredie tot die romantiese kookster (soos in hemelliggaam) Marlene van Niekerk se lofsang oor beet. Die foto’s is ’n fees, die uitleg netjies, ’n plesier vir die oog. Dit is ’n mooi boek, maar ’n bietjie swaar op die hand – nie maklik hanteerbaar in ’n kombuis nie. Eerder leesbaar as bruikbaar, en lekker om te lees daarby. Alles pluspunte.” Sy het dit egter teen die swak nasienwerk – Kerneels moes haar oor ’n bord kos en ’n fles wyn om verskoning vra vir die verkeerde spelling van haar naam in die boek.

Madeleine Roux (skuilnaam van Madeleine van Biljon junior), ook ’n kok en koskenner, skryf in Rapport van 19 Februarie 2006 dat nostalgie volgens ’n Frans gesegde niks meer is as verlange na die kos waarmee jy grootgeword het nie. “En Kerneels Breytenbach, uitgewer en ook befaamde Kaapse gourmand, het uiteindelik geswig en ’n kookboek saamgestel wat drup van die nostalgie. Met resepte uit ons jeugjare, asook die gunstelinge van ons oumas, pa’s, jagvriende, ou tantes en ja, selfs ons kinderbediendes, weerspieël dié eklektiese versameling die tradisionele kossmake van geslagte Afrikaners. Dan het die skrywer ook heerlike onafrikaanse ekstras ingegooi, soos chowder (die onweerstaanbare Amerikaanse vis-en-aartappelsop gegeur met spekvleis), Franse uiesop, Griekse skaapboud, Thaise gemarineerde vis en Camembertkoek.

“Die aanslag is net reg: Jamie Oliver kook Huisgenoot se Wenresepte. Die samesteller se gevatte, skalks-vrome opmerkings, sy eie kort essays en lieflike bydraes van skrywers is in die kol. Veral mooi is die resepte binne-in die essays. Niks irriteer ’n kosleser meer as ’n gesoek na resepte by ’n verwysing in die meegaande storie nie.

“Vir my is kos onlosmaaklik aan humor verbind. Die beste resepteboeke is dus samestellings van sensuele inligting en vreeslike snaakse opmerkings – dink maar aan Elizabeth David met haar droë kritiek op gemorskos en passieryke kostoere deur Europa, of aan Julia Child se wonderlike verhale oor haar TV-rampe, maar ook die manier hoe sy haar hande so mooi op kos kon lê, soos alle goeie kokke. Breytenbach is ’n humoristiese skrywer en sy aweregse sin vir humor is nommerpas. ‘Ek het die grootste respek vir vegetariërs. Dit wil egter nie sê dat ek dieselfde fout as hulle moet maak nie.’ Kosbaar ook is sy vertellings oor ou eetplekke soos die Kaapse Tafel-restaurant in Koningin Victoriastraat in Kaapstad. Ewe goed is bydraes van onder meer Antjie Krog, die jagter Johan Botha, die rubriekskrywer Mariëtte Crafford en die rolprentmaker Herman Binge. Die akademikus Elize Botha se storie oor haar pa en die nagmaalwyn is van Herman Charles Bosman-gehalte.

“Kortliks, ’n indrukwekkende, mooi boek met werklik lekker resepte. Daar is mooier foto’s binne-in die boek as dié op die voorblad, maar dis kibbel. Die foto van droë harders en ’n knipmes op bl 179 is lieflik, maar hulle sê mos vis op die voorblad van enige resepteboek behalwe ’n vis-een, sal nie die boek laat verkoop nie.”

Sy het egter dieselfde voorbehoude oor woorde wat verkeerd gespel is en ander foute in die boek en haar vraag is waarom Breytenbach soveel moeite gedoen het om vir sy lesers plesier te verskaf en dan taal- en resepteversorging laat links lê het.

In Oktober 2010 verskyn 7de Laan kook, wat saamgestel is deur Daleen van der Merwe, Human & Rousseau se kookboekredakteur, met teks deur Kerneels. Hy hét slaafs die sepie 7de Laan op SABC2 gekyk, en doen dit al die jare, en daarvoor blameer hy vir André P Brink. Brink se bewondering vir een van die karakters in die reeks het Kerneels nuuskierig genoeg gemaak om te begin kyk. In hierdie boek deel sewe van die karakters in die sepie hul beste resepte. “Die lekkerte hiervan was om ’n storie rondom elke karakter te skep, binne karakter te bly, en in sy of haar ‘stem’ te praat.

“Matrone het byvoorbeeld ’n vorige lewe wat so saam met haar resepte uitkom: die mans wat sy in die oog gehad het, die jare by Bothaville se landbouskou. Hel, daai vrou het ’n stem waarmee jy boerpampoen kan skil, maar haar Generaal De la Rey-koek met droë vye en pekanneute maak jou knieë slap!" vertel hy aan Elmari Rautenbach.

En al het Daleen van der Merwe die meeste van die 75 resepte bymekaargenaak, het Kerneels nie teruggestaan as dit gekom het by die soek-en-proe-sessies nie.

Hy vertel aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 23 Oktober 2010) dat daar egter ’n storie ágter die storie is: “In 1995 het ek by die Frankfurt-Boekebeurs een aand langs ene Barbara Beck gesit. Sy was ’n uitgewer by die Metropolitan Museum of Art en vertel my toe hoedat sy in die bedryf beland het.

“Rex Stout, ’n Amerikaanse skrywer, het van die dertigs tot die sewentigs ’n misdaadreeks, die sogenaamde Nero Wolfe-boeke, die lig laat sien. Wolfe was ’n speurder met ’n lyf so groot soos sy ego en ’n voorliefde vir geel sypajamas, orgideë en die gastronomie. Al probleem was Stout kon nie kook nie. Dit was Barbara se taak as jong uitgewerassistent om elke boek se resepte en kookrituele uit te dink en agterna die manuskripte na te gaan om seker te maak Wolfe kap darem ’n ui op die regte manier. En dis hoe sy die idee gekry het vir The Nero Wolfe Cookbook – tot vandag toe een van die top-kookboeke op amazon.com!”

Na sy sogenaamde aftrede is Kerneels nog steeds besig met boeke: resensies, lees van manuskripte en ander soortgelyke dinge. “Aftree is miskien iets wat ek eendag sal doen. Op die oomblik wentel my lewe om boeke, musiek en pogings tot my eie skryfwerk. En natuurlik, my hond, Jasper. Ek en my vrou, Carien, kan dit net nie oor ons harte kry om hom te vertel hy is nie ’n mens nie,” vertel hy aan Corné Coetzee.

Breyten Breytenbach beskryf Kerneels so: “Die kern van Koning Neels (of Klimneels, of Knorneels) is gulhartigheid en ’n fyn-fyn onbevange gees propvol intelligensie en nuuskierigheid. (In die ope-gemoed en vermoë tot verwondering sin ...)” Breyten sê verder: “[V]ra hom, in alle erns, of ons nou die blerrie groot skrywer wat hy is, vreesloos na vore gaan sien tree.”

Hierdie vraag is beantwoord toe Kerneels in 2009 gepols is oor waarom hy tóé, op 56, uittree: “’n Mens werk mos maar altyd met daardie idee dat jy nou as jy 60 of 65 is, sal gaan. Ek het in 1993 laas gepubliseer – Glimlag (...), wat ek gedink het ernstige werk is.

“Sedertdien was daar daai kookboek (Die lekkerste lekker) en ’n grapboek (Die skoon grapboek). Maar op een of ander manier het ek verskeie kere begin met goed skryf en elke slag dan ontspoor dit ... of tyd haal my in, of ek het nie tyd om daaraan te werk nie, of ek raak sinies halfpad want ek besef ek hou nie daarvan nie – daai soort van normale goed.

“Maar die eintlike ding is jy sit by ’n uitgewery en jy sien ander mense se goed en jou kreatiewe tyd gaan in personeelsake in en in die bestuur van ’n maatskappy. En uiteindelik skryf jy basies níks. En daar is nou twee of drie goed. Een is ’n roman wat ek al mee begin het in 1999, 2000 – daar rond, en wat ’n baie ernstige terugslag gekry het toe hulle my laptop (in November 2003) gesteel het met ’n klomp hoofstukke daarmee saam. Toe moes ek hom van voor af skryf want ek het nie ’n backup gehad nie, maar sedertdien hou ek religiously backups.

“Maar dit het ek toe herskryf, ek het toe gaan sit en ’n taamlike poging aangewend. En met dáái roman het ek verder as halfpad gekom, maar hy sit nou daar en wag vir my. Dis die eerste ding wat ek nou gaan doen. ’n Mens raak so verlief op die stories partykeer en die karakters ... in hierdie geval is dit ’n bruin vrou wat groot opgang maak in die sakewêreld en hoe sy trou met ’n jong wit ou en dan die familie wat vir haar vra hoe kan sy benede haar met ’n witmens trou – die omgekeerde situasie van wat voorheen sou gebeur het.”

André Brink sê naas rugby is musiek die ding wat ook húlle oor die jare “baie heg verbind het”. “[A]s ’n paar manne eers saamgehuil het oor ’n Habana-drie op die rugbyveld, of ’n Monty-skop in die doodsnikke, of oor Anna Netrebko in Traviata, dan staan daardie vriendskap soos ’n paal bo water.”

Oor Kerneels die uitgewer sê hy: “Hy was soos oorle’ Watermeyer se mure teen die suidewind.”

In ’n onderhoud met Elmari Rautenbach gesels hulle oor ouer word en lesse leer en Kerneels vertel vir haar van sy dogter, Jana, wat as ’n junior verslaggewer by Die Burger die moeilike opdrag gekry het om die Eersterivier-taxi-ongeluk op die treinspoor te dek. “Die een waarin tien kinders dood is.

“Ek tel die oggend die koerant op en ek lees: ‘Ek is lief vir jou. Wees tog gaaf met die taxi-bestuurder.’ Dít was gisteroggend me Rochelle Smith van Eersterivier se laaste woorde aan haar seun, Reece.’ En ek dink: my dogter het dit heeltemal op haar eie geskryf. Weet jy hoe trots voel ’n mens?”

In 1995 het Kerneels aan Rapport-Tydskrif gesê dat hy graag sy goue jare op Carolina in Oos-Transvaal wil woon. “Daar moet ’n Aga-koolstoof in die kombuis wees en baie koffie en boerebeskuit. Met ander woorde, dit moet rustig wees en ek moet tyd hê vir baie herinneringe – selfs oor goed wat ek nie gedoen het nie.

“Ongelukkig moet elkeen maar self vir sy eie oudag voorsiening maak. Hoewel pensionarisse en senior burgers afslag kry op uitgawes soos fliek en haarsny, kry hulle nie korting op die werklike uitgawes van die lewe nie. G’n wonder so baie van hulle moet hulle bekommer nie.”

En as hy ’n tweede kans kry om terug te kom aarde toe: “Ek sal graag Mozart wil wees. Hy is die enigste mens wat weet hoe die Requiem werklik moes geëindig het. En met die moderne mediese wonderwerke sou ek graag ’n kat in my skoonsuster se huis wou gewees het – dan sou ek ewigdurende vreugde kon hê en heerlik baas kon speel.”

Sarie wou weet hoe hy hom in die winter warm hou: “Daar’s ’n paar stelreëls. Nommer een: bou voortdurend aan jou koolhidraat-vlakke – wat goed is vir atlete, is goed vir TV-kykers. Jy’t daardie ekstra energie veral nodig vir nuusberigte.

“Nommer twee: betaal jou mediese rekenings eers ná maande. Nommer drie: gebruik die rooiwyn-en-blondine-opsie slegs wanneer jou vrou en kinders tydens die skoolvakansie Wildtuin toe is saam met jou skoonouers. Nommer vier: onthou, ’n knetterende kaggelvuur is die duiwel se oorkussing.”

Soos in sy jeug is Kerneels steeds ’n ywerige leser. “Ek verslind alles van Reginald Hill, Lee Child en James Ellroy wat ek in die hande kan kry. Dis my verstrooiingsplesier. Onder die ernstiger skrywers is dit ’n vreugde om met nuwe name soos Jonathan Franzen, Ian McEwan en Roberto Bolano kennis te maak. Die skrywers wat my beïnvloed het, is Henry Adams, Thomas Pynchon, Don DeLillo, Milan Kundera, Richard Ford en William Gaddis. Ek betrap myself ook elke paar jaar dat ek Pynchon se Gravity’s Rainbow en DeLillo se The Names herlees. Wat Afrikaanse boeke betref, probeer ek byhou.” (Aan LitNet)

Kerneels erken op LitNet aan Lien Botha dat ’n mens nie van die rituele van die daaglikse bestaan kan ontsnap nie – dit is altyd daar. Hy begin ongeveer vieruur in die oggend skryf en staan dan na ’n paar uur op. En dit is wanneer die rituele begin – soos om met Jasper, sy hond, te gaan stap, ontbyt te maak, koerant te lees en takies in en om die huis te verrig. Maar "met die skryf self is daar geen ritueel nie. Sommige dae gaan dit maklik, ander dae nie. Voor ek in die aand aan die slaap raak, probeer ek om die toneel wat ek die volgende oggend eerste gaan moet takel, in my verbeelding te sien. In detail. Wat die teenwoordige karakters sê en voel. Wanneer ek dan hier skuins voor vier wakker word, vind ek dat ek die ding omtrent kan sien en voel. Dis maar net ’n truuk wat vir my werk. Mens het so ongelooflik baie dinge wat jy op TV en rolprente sien, en jou eie ervaring, dat jou droomtyd soms wonderlike dinge oplewer."

En toe word Kerneels se tweede roman (’n lywige een) getiteld Piekniek by Hangklip in 2011 uitgegee en is dit een van die finaliste vir die UJ-prys vir skeppende skryfwerk saam met Sonja Loots se Sirkusboere, Net ’n lewe van Fransi Phillips, Onversadig deur TT Cloete en Wals met Mathilda van Dan Sleigh.

Louise Viljoen beskryf die storie van Piekniek by Hangklip op LitNet so: "Die twee hoofkarakters in Piekniek by Hangklip is Sonja Griessel, ’n jong Gautengse prokureur, en Joshua Gumbo, oorspronklik van Zambië en lid van die Lucky Thirteen-misdaadsindikaat in Johannesburg. Hulle lewensverhale raak verweef wanneer Joshua op ’n dag die motor probeer steel waarin Sonja en haar ouers by hulle huis aankom. In ’n toneel wat herinner aan Quentin Tarantino op sy absurde en gewelddadige beste skiet hy per abuis Sonja se ouers dood wanneer sy uit die motor struikel en onbedoeld ’n soen op sy mond plant, ’n daad waarmee sy hom onwetend van sy mojo beroof. Na die tragiese gebeure pak Sonja alles in Gauteng op om ’n nuwe lewe in die Overstrand-gebied te begin. Joshua volg haar spoor na die Kaap. Hy het haar net rakelings in die donker gesien, maar hy onthou haar reuk en hy begin soek na haar om sy mojo terug te kry. Op haar beurt soek Sonja na ’n eerlike eiendomsagent en ’n behoorlike argitek sodat sy haar met styl in Bettysbaai kan vestig.

"Uit hierdie eenvoudige gegewe ontspring daar ’n reeks avonture waarby daar allerlei interessante karakters, onvoorsiene gebeure, vernuftige wendings, smaaklike maaltye en heelwat goeie seks betrokke is. Alhoewel sommige van die episodes net lossies met die sentrale intrige skakel, is daar op storievlak heelwat om die leser besig te hou. Die verteller se beskrywings is raak en spitsvondig (die een karakter se ken het byvoorbeeld 'iets Brits in die teruggehoue plasing onderaan die skedel'). Daarby het hy ’n goeie oog vir besonderhede en ’n fyn oor vir dialoog.

"Die roman eindig met ’n uitspattige partytjie by die Hangklip Hotel waar Sonja die voltooiing van die planne vir haar huis wil vier en tegelykertyd ook wil wraak neem op die drie mans wat ’n weddenskap oor haar verleibaarheid aangegaan het. Soos dikwels in romans en films, is dié partytjie die karnavaleske hoogtepunt waarheen al die gebeure in die roman opbou. Al wat ek van die partytjie mag verklap, is dat dit sommige van die roman se plotlyne bymekaar bring en afbind sodat die leser ten minste ’n gevoel van (voorlopige) sluiting ervaar. Soos ander Afrikaanse skrywers voor hom betuig Kerneels Breytenbach met die beskrywing van hierdie partytjie sy skatpligtigheid teenoor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins wat as ’t ware die oermodel geword het vir alle partytjies in die Afrikaanse letterkunde. Leroux se roman word ook in herinnering geroep deur die talle filosofiese gesprekke tussen die karakters."

Vir Louise Viljoen is een van die kenmerke van die roman die feit dat dit wys dat belangrike kwessies nie alleenlik met erns aangepak hoef te word nie. "Klugtigheid en spot is eweneens wapens in die stryd om die behoud van goeie waardes, esteties bevredigende argitektuur, opbouende literatuurkritiek, onpretensieuse eetgewoontes en volhoubare maatskaplike verandering. Wat ’n seepgladde plesier was dit nie om hierdie roman van Kerneels Breytenbach te lees nie!"

Thys Human skryf as volg oor Piekniek by Hangklip: "Ofskoon Breytenbach sy verteller duidelik by Fielding afgekyk het, is daar geen sprake van skatpligtigheid nie. Aan die een kant skep die verteller ’n ironiese afstand tussen die leser en die karakters, wat eersgenoemde bewus hou van sy/haar kritiese reaksie op die gebeure. Aan die ander kant neem die verteller die leser soms só sterk in sy vertroue en is hy só eerlik oor sy werkswyse en bedoelings dat die leser ook die geleentheid kry om die karakters se standpunte in te sien en empatie met hulle te ontwikkel.”

“Vir lesers wat bereid is om ’n geloofsprong te waag, wag daar ’n leeservaring sonder gelyke: stilisties behendig, soms skandalig satiries, plek-plek sedeloos en sinnelik, maar áltyd slim en skreeusnaaks!”

Michiel Heyns se resensie in Beeld van 10 Oktober 2011 eindig so: "Piekniek by Hangklip is ’n oordadige, baldadige, balhorige aanslag op preutsheid en pretensie. Ontspan en geniet dit."

In 2014 is Ester gepubliseer en het dit weggestap met die kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie vir 2014. Dit was ook op die kortlys vir die ATKV-Woordveertjies, die WA Hofmeyr-prys en die UJ-prys vir 2015.

Ester se agtergrond is merendeels gesetel op ’n treinrit tussen Windhoek in die voormalige Suidwes-Afrika en Kaapstad. Ao Dieter Bergman word vanaf die dorpie Piet Retief opgekommandeer om op ’n landsbelangrike sending te gaan. Hierdie sending kan die geskiedenis van Suid-Afrika verander. Bergman moet ook vir Thyra Denk, ’n Duitse spioen, op haar plaas buite Windhoek gaan haal en saam met haar met die trein na Kaapstad reis waar sy voor die Gekose Parlementêre Komitee moet verskyn.

Maar die eintlike doel van die ondersoek, wat in opdrag van die Smuts-regering daargestel is, is om uit te vind of DF Malan, LV vir die opposisie, enige kontak met die Nazi-regime gehad het met mevrou Denk as skakelpersoon.

In sy commendatio vir die kykNET-Rapport-prys vir die rolprentkategorie skryf Herman Binge van Lion's Head Productions: "Wat meer wil ’n fliekmaker hê as die stomende verhaal van ontluikende liefde tussen ’n maagdelik-rigiede polisieman van Piet Retief en ’n verleidelike Duitse spioen van Namibië? Saam op ’n lotsbepalende treinreis na Kaapstad. Op ’n lokomotief van die ou SAS&H. In 1946, ’n jaar van groot politieke intrige in Suid-Afrika.

"Kerneels Breytenbach se Ester is ’n teks wat netjies binne ʼn bewese kommersiële fliekgenre val. Dink maar aan Marlene Dietrich in Shanghai Express van 1932, Rex Harrison in Night Train to Munich uit 1940, Tony Curtis, Jack Lemmon en Marilyn Monroe in die onvergeetlike Some ­Like It Hot uit 1958 ... Breytenbach se treinrit bied die rolprentmaker lieflike visuele metafore. Stoom en vuur, swaar wiele wat knars op spore. Afwagting op die spore wat vir ­kykers voorlê en die spore wat die karakters agterlaat in die verbysnellende werklikheid.

"Daar is oorgenoeg ruimte vir die nodige afwisseling tussen die dialooggedrewe interieurtonele en die buitetonele van stasies waar ons (en die storie) kan bene rek. Die moontlikheid van wye skote op ’n trein wat deur pragtige natuurtonele gly, vanaf die wydsheid van Namibië deur die dorre Karoo na die groene Boland verlos die kyker ook vir ’n oomblik van die kloustrofobie van klein kompartemente en benoude gangetjies. Breytenbach se fyn beskrywings van onvergeetlike karakters en sy slim, gevatte dialoog kan feitlik onveranderd in ’n draaiboek opgeneem word." (Rapport, 23 November 2015)

Dewald Koen skryf in Die Burger (22 November 2014) dat die roman gedeeltelik op die werklikheid gegrond is. "Breytenbach het sy feite deeglik nagevors en gevolglik word die fynste besonderhede as deel van die storielyn weergegee. Hierdie roman is egter nie ’n vervelige geskiedenisles nie.

"Die treinrit word op gedetailleerde wyse verwoord en Breytenbach skenk besonderse aandag aan die beskrywing van die landskap, hoewel dit nie met landskapbeskrywings van Karel Schoeman kan wedywer nie. Die leser word meegesleur op ’n spanningsvolle rit deur die natuurprag van Suider-Afrika. Op amper nostalgiese wyse herroep Breytenbach die vergange dae van die stoomtrein en die sjarme wat met dié treinreise gepaardgegaan het.

"Breytenbach se kennis van kos en musiek kom duidelik in die narratief na vore. Die vyfgang-maaltye tydens die treinrit word op amper poëtiese wyse beskryf en prikkel die leser se sintuie behoorlik. Breytenbach slaag daarin om die spanningselement tot aan die einde van die roman te behou. Die tempo van die roman begin relatief stadig, maar tel geleidelik spoed op soos die trein nader aan sy bestemming beweeg. Met talle onbeantwoorde vrae word die leser gedwing om stip te lees om sodoende te verseker dat enige terloopse handeling nie misgelees word nie.

“Die groot vraag wat die leser van bladsy een af teister, is die vraag rondom Ester se identiteit. Wie is Ester en waarom tree dié klaarblyklike skim­figuur nie na vore nie? (Die leser sal egter self die roman moet lees om die antwoord op dié vraag te verkry.) (...)

Ester is ’n spanningsroman wat ongetwyfeld die meeste lesers sal boei. Hoewel die roman spanningslektuur is en nie as hoë letterkunde geklassifiseer kan word nie, gaan dié roman myns insiens deur lesers verslind word. Die roman lei die leser ook tot verdere nadenke oor die politieke gebeure van 1946, aangesien dit die nuuskierigheid oor die ware geskiedkundige gebeure prikkel. (...)

Ester is die tipe roman wat meer as een maal gelees moet word. Met hierdie roman het Breytenbach die resep vir ’n aksiebelaaide spanningsroman vervolmaak."

Kerneels het al in 2001 die eerste keer met Ester te make gekry toe ’n juris hom vertel het van hierdie Duitse spioen en die regering van Jan Smuts se poging om haar te gebruik om DF Malan se politieke loopbaan kort te knip. Hy vertel verder aan Lien Botha op LitNet: "Dit was vir my amper ondenkbaar dat politici dit oorweeg het om Malan van hoogverraad aan te kla. Ongelukkig het ek eers jare later die storie uitgesnuffel kon kry toe iemand my vertel het van die biografie wat Jeremy Lawrence geskryf het oor sy pa, Harry Lawrence, wat in 1946 minister van justisie was.

"Die Smuts-regering is ingelig oor geheime verslae wat gevind is in Von Ribbentrop se gekonfiskeerde dokumente, en Harry Lawrence, ’n man wat skynbaar nagedink het eers nadat hy gehandel het, het die kans benut om die wêreld vir Malan warm te maak. En toe ek eers Lawrence se biografie gelees het, het die storie vir my al hoe aantrekliker geword. Soos die toeval dit wou hê, het ek kort nadat ek dit gelees het, kort na mekaar die rolprent Salon Kitty gesien en ’n klomp romans deur Alan Furst gelees. My verbeelding laat nie sulke prikkels verbygaan nie. Ek het Lindie Koorts se proefskrif oor Malan gelees, wat vir my bevestig het hoe ’n soort mens hy was – maar toe moes ek hom probeer sien deur die oë van ’n vrou wie se ideale deur Malan se beginselvastheid verydel is. Dit gee toe ’n hele verhaal af."

Lien Botha wou weet of Kerneels se "vernuf met die vleeslike avonture op die trein" natuurlik kom. Vir hom was dit "jare van toegewyde studies in die skool van die lewe. En ek vermoed baie mense sal my siening deel, dat ongeag hoe gelukkig jy met die sake van die hart en vlees is, jy steeds saam met Leonard Cohen sing dat iemand tog jou tong van die verlange moet kom verlos."

Kerneels vertel ook verder aan Botha oor die rol van die trein. Hy self het nooit as kind ’n modeltreinstelletjie gehad nie, want hy was te "woelig", maar ’n maat, Gerald Bosworth, het wel ’n Scalextric-stel gehad waarmee hulle tot in standerd 7 nog gespeel het. En die enigste keer wat hy trein gery het, was toe hy nog ’n peuter was toe sy tante Liesbeth hom met die trein van Germiston na Alberton en terug geneem het.

"Maar my belangstelling in treine het gekom uit vriende se wedervarings op die Orient Express en die Trans-Siberië-trein. En Paul Theroux se verskillende boeke oor treinreise, veral The Old Patagonian Express. Een van my vriende, Herman Binge, het in sy jeug dikwels met die Windhoek-Kaapstad-trein gery, en kon my geweldig baie vertel van die soort klanke, geure en bewegings op daardie spesifieke trein. Herman se herinneringe was omtrent vir my ’n openbaring, want hy verlang self so terug daarna.

"Erla Diedericks, ’n Facebook-vriendin, kon my vertel van die binnekant van die kompartemente, hoe die beddens opgemaak is, waar die nagliggie gesit het, ensovoorts. Die aktiwiteite van die drywer en stokers is in besonderhede vir my beskryf deur Jaap Diedericks, Erla se pa, wat ook die model geword het van die karakter Jurie Kimberley. Les bes was daar Werna Maritz se pragtige drie boeke in die Ysterwiele-reeks. Met al hierdie inligting moes ek net die oë sluit en die verbeelding op loop laat gaan. Ek wou self daardie rit aanpak, maar die trein van Windhoek af stop deesdae op Karasburg en draai dan om. Maar jy het reg, ek het die trein gesien as ’n soort kokon, ’n lewende teenwoordigheid waar mense minnaars kon word."

Lien Botha wou ook weet hoe Kerneels tot siens sê aan ’n boek wanneer hy klaar is. Vir hom is dit swaar om afskeid te neem en die manuskrip aan die redakteur te oorhandig en te weet daar is niks meer wat hy daaraan kan of wil verander nie. "En op daardie presiese oomblik breek daar ’n walletjie in jou gemoed, en stroom vertwyfeling en onsekerheid in jou gemoed in. Dit stabiliseer uiteindelik eers wanneer die resensies begin verskyn. Noudat daar bekendstellings vir die boek is, en ek oor haar moet praat, is dit baie soos die lang afskeid wat mens neem van iemand vir wie jy lief is, maar die verhouding is afgeloop, en nou werk julle nog saam, sien mekaar elke dag, maar jy kan nie meer aan haar raak nie."

Joan Hambidge skryf op “Woorde wat weeg” oor Ester dat die "enorme, goed verwerkte navorsing indrukwekkend" is en dat dit "veerlig geskryf is, met ’n subteks vol verwysings en toespelings".

In 2016 skenk Kerneels sy dokumente rondom die skryf van Ester aan die Universiteit Stellenbosch se JS Gericke-biblioteek.

Tussen Kerneels se eie nuwe skryfwerk deur vind hy ook tyd om Deon Opperman se drieluik televisiereekse, Hartland, Donkerland en Kruispad, in romanvorm te verwerk. Opperman was nie intens by die verwerking betrokke nie. Met een van die boeke het hy die finale manuskrip gelees en ’n paar insette gelewer, maar nie met die ander nie.

Ná die sukses van die drie reekse op televisie het die uitgewer Riana Barnard gemeen dat die werke ook vir die leserspubliek toeganklik moet wees. Barnard het aan Francois Verster (op LitNet) vertel dat uitgewers in diens van die leser staan en uitgewers wil mense laat lees. Suksesvolle films laat gewoonlik mense die boeke koop, selfs mense wat nie baie lees nie, en omdat hierdie drie boeke van Opperman so ’n aangrypende tema het, was sy van mening dat die boeke net so goed sal vaar soos die reekse op televisie. En nadat Kerneels se verwerking van Hartland so positief ontvang is, was die besluit maklik om ook verwerkings van die ander twee te doen.

Kerneels vertel aan AJ Opperman (Beeld, 13 Oktober 2014) dat die verwerking van hierdie drie romans ’n "goeie uitdaging was om ’n sekere skryfkuns te verfyn. ’n Moeilike aspek was onder meer die karakters se fisieke voorkoms. Mense het hulle reeds op televisie gesien. Ek kon hulle nie mooier maak nie. Maar party van hulle is so mooi, jy kán hulle nie mooier maak nie. Ek was ook gebonde aan die dialoog."

Kerneels vertel aan Francois Verster dat hy met Opperman se oorspronklike teks plus die DVD's van die televisiereekse gewerk het en dit toe "oorgeskryf [het] in prosavorm". "Ek kon nie dinge beskryf wat nie in die uitsendings was nie, insluitende dialoog, maar ek kon wel dialoog weglaat of, in enkele gevalle, verander. Die keuses wat werkbaar sou wees vir die roman, al dan nie, was ’n tydrowende proses."

Oor die moontlike raakpunte tussen Karel Schoeman, FA Venter en Deon Opperman vertel Kerneels aan Verster: "Ek glo nie Donkerland is ’n reaksie op daardie skrywers nie; en ’n ondersoek na ’n ‘gesprek’ sou eerder moet konsentreer op die manier waarop die skrywer die plaaslike geskiedenis sien, en hoe hy die Afrikaner se reaksie daarop teken. Wat my aangespreek het in Donkerland, is hoe Deon die verhouding tussen swart en wit in elke tydvak uitlig, die intellektuele (of eintlik anti-intellektuele, soos Dirk aan sy bas voel) kaartehuis wat die Afrikaner vir homself opgerig het, en die flenters wat daarvan oorbly agterna. Die Afrikaner se verhouding met Engelse is belangrik, en die maniere waarop medemenslikheid na weerskante vertoon word. ’n Mens sou baie kleiner tematiese lyne kan uitlig, en uiteindelik dink ek Deon se analise is een van die mees volwasse, nugtere sienings wat ek nog raakgeloop het. Jy sou ook die politieke neerslag van elke tydvak as voeder van die spesifieke episode kon analiseer. Hoeveel lyne kan jy dan terugtrek na Venter en Schoeman? Ek vermoed nie veel nie, want Deon se aanpak het ’n groter deel van die geskiedenis wat dit onder die loep neem.”

Publikasies

Publikasie

Enumerasie in die Afrikaanse letterkunde

Publikasiedatum

1976

ISBN

(hb)

Uitgewers

Stellenbosch: CT Breytenbach

Literêre vorm

M-verhandeling

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Morsdood van die honger

Publikasiedatum

1992

ISBN

098129859 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

CNA-debuutprys 1993

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Glimlag

Publikasiedatum

1993

ISBN

0798131977 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die ding tussen man en vrou: grappe byeengebring en oorvertel

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798150729 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Grapboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

7de Laan kook. Teks deur Kerneels Breytenbach en saamgestel deur Daleen van der Merwe

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151634 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Piekniek by Hangklip

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798156035 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hartland (verwerking van Deon Opperman se televisiereeks)

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780624056911 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Donkerland (verwerking van televisiereeks van Deon Opperman saam met Deon Opperman)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624065241 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: NB-uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands deur Ingrid Glorie 2015

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kruispad (verwerking van Deon Opperman se televisiereeks)

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780624071426 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: NB-uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ester

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780798167956 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie 2014

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Kerneels Breytenbach as samesteller

Kerneels Breytenbach as vertaler

  •  Impey, Rose
    • Gril jouself simpel. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028143 (sb)]
    •  Die groen enkelgryper. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028704 (sb)]
    •  Lappe-Lena. Kaapstad: Tafelberg, 1990 [ISBN 0624028712 (sb)]
    •  Ou Platkop. Kaapstad: Tafelberg, 1989 [ISBN 0624028135 (sb)]

Artikels oor Kerneels Breytenbach op die internet

’n Keur van artikels deur Kerneels Breytenbach op die internet

 

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Kerneels Breytenbach (1952–) appeared first on LitNet.

Rob Antonissen (1919–1972)

$
0
0

Gebore en getoë

Robert Karel Jozef Emiel (Rob) Antonissen is op 23 Mei 1919 in Antwerpen in België gebore. Hy was die enigste kind van Petrus Emiel Antonissen en Louisa Maria Camps. Sy vader was ’n geoktrooieerde rekenmeester.

FEM Vaughan het in die Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, Deel V (RGN, 1987) geskryf dat Rob Antonissen vanaf 1930 tot 1936 sy hoërskoolopleiding in Grieks-Latynse humaniora aan die Sint-Jan-Berchmanscollege in Antwerpen ontvang het.

Verdere studie en werk

Hierna is hy na die Universiteit van Leuven in België, waar hy vanaf 1936 tot 1942 sy studie voortgesit het in die wysbegeerte en lettere, veral in die Germaanse filologie. In 1940 het hy die Licentiaat in Germaanse filologie en die Aggregaat Middelbaar Onderwys (hoër graad) verwerf. Hy het op 11 Desember 1942 ook aan die Universiteit van Leuven gepromoveer tot doktor in die wysbegeerte en die lettere met ’n proefskrif getiteld “Herman Gorter en Henriëtte Roland Holst”. Hierdie proefskrif is vanweë die Tweede Wêreldoorlog eers in 1946 gepubliseer. Dit is in 1947 met die Letterkundige Prijs der Vlaamse Provinciën bekroon.

Antonissen het vanaf 1942 tot 1945 onderwys gegee in Nederlandse en Duitse letterkunde by die Belgiese middelbare onderwys, eers aan die Koninklijke Athenaeum te Berchem-Antwerpen, en daarna (tot 1950) was hy dosent in Nederlands aan die middelbare normaalskole (opleidingskolleges) vir meisies te Berchem-Antwerpen en Tielt in Wes-Vlaandere.

Antonissen is in 1944 getroud met Lisette Maria Victorina (Liesje) Broekmans en vier kinders (drie dogters en ’n seun) is uit die huwelik gebore.

Reeds in België het Rob Antonissen ’n belangstelling in die Afrikaanse letterkunde getoon, naas sy liefde vir die Nederlandse letterkunde. In 1943 is sy bloemlesing Zuidafrikaansche poëzie in Antwerpen gepubliseer en in 1947 het Zuid-Afrika: poëzie en proza na 1900 verskyn, asook sy vertaling van Mikro se Toiings in Nederlands. Ook in 1947 verskyn sy groot werk Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde. Dit was sy eerste bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde.

In 1949 is HA Mulder, wat op daardie stadium lektor in Afrikaans en Nederlands aan Rhodes-universiteit was, oorlede en daarmee is, volgens JC Kannemeyer (Boekewêreld, 15 Mei 1996), een van die fynste lesers van die poësie van Dertig nie meer daar nie. WEG Louw was destyds professor op Grahamstad en hy was die een wat die eerste voelers na Antonissen uitgesteek het om te hoor of hy nie belang sou stel om na Rhodes toe te kom nie. En Antonissen het wel belanggestel.

In Maart 1950 het hy en sy gesin na Suid-Afrika verhuis en hierdie verbintenis het tot sy afsterwe geduur. Hy het begin as lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands en in 1953 is hy bevorder tot senior lektor, en met WEG Louw se verhuising na Kaapstad einde 1957 het Antonissen hom in 1958 opgevolg as professor en hoof van die departement. In 1959 is hy aangestel as dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, ’n posisie wat hy beklee het tot 1963. Daarna het hy vir tien jaar in die raad van Rhodes-universiteit gedien en in 1971 is hy as viserektor aangestel. Hy het ook die plaaslike politieke toneel betree toe hy tot 1966 as stadsraadslid van Grahamstad gedien het.

Antonissen was bekend as ’n kenner van die Nederlandse letterkunde, beide van die noorde en die suide van Nederland. In Die Burger van 4 Oktober 1972 het R Pheiffer geskryf: "By die groot waardering wat daar onteenseglik moet wees vir sy werk as Afrikaanse literator (hy wat as simpatiek gesinde Vlaming hom so intens en diep ingeleef het in die Afrikaanse literêre lewe), mag dit nie gebeur dat sy betekenis as Nederlandskundige op die agtergrond geraak nie.

"Aan ons universiteit word sy omvangryke tweedelige bloemlesing gebruik – Digkuns van die Nederlande, 1100–1960, met Afrikaanse annotasies – een van die mees representatiewe wat ek ken. Daarvan kom Antonissen kort voor sy dood nog die jongste, uitgebreide uitgawe beleef.

"Sy klasse, wat ek vanaf sy koms na Suid-Afrika in 1950 vir drie jaar kon bywoon, was openbarend van ’n uiters skerpe intellek, ’n ongelooflike presiesheid en ’n onberispelike geleerdheid. ’n Onuitwisbare indruk het sy lesings oor die Middeleeue en die Middelnederlandse letterkunde gemaak, veral oor die digteres Hadewych en oor die epiek. Oor die sewentiende eeu in die Nederlande en die begrippe Renaissance en Barok in die algemeen kon Antonissen tegelyk oorsigtelik en indringend praat, en sy groot kennis van Vondel en Bredero het van tyd tot tyd neerslag gevind in model-artikels ..."

Terwyl Antonissen by Rhodes gewerk het, het hy heelwat op die gebied van die Afrikaanse letterkunde verrig. Hy het gedurende die volgende 20 jaar aangegaan met sy werk aan die Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde en dit na twee dele uitgebrei. Daarby het hy ook bydraes gelewer tot PJ Nienaber se Perspektief en profiel (1951), Ensiklopedie van die wêreld en die Standard Encyclopaedia of Southern Africa.

In Suid-Afrika het Rob Antonissen as een van die knapste kritici ontpop. Hy was vanaf 1955 een van die mederedakteurs van die letterkundige tydskrif Standpunte waarin hy, volgens Kannemeyer, "insiggewende kommentaar op nuwe publikasies" lewer. Kannemeyer het gemeen die uitmuntende kenmerke van Antonissen se opstelle was die "konstruktiewe opset en die vermoë om kernagtig tot die hoofmomente van ’n digbundel of roman deur te dring".

Dit het Antonissen nie lank geneem om, nadat hy in Suid-Afrika aangeland het, met leidende skrywers bevriend te raak nie. Hy het egter nie gehuiwer om sy siening van die letterkunde sonder skroom te stel nie. Hy was ook nooit ’n "onkritiese partygenoot" as dit by letterkundige aangeleenthede gekom het nie. So is die "orakel van Grahamstad" se oordeel en kritiek met ingehoue asem afgewag, het Kannemeyer geskryf (Boekewêreld, 15 Mei 1996).

Een van die voorbeelde van Antonissen se skerp kritiek wat Kannemeyer in sy artikel "Antonissen: een van ons knapste kritici" (Boekewêreld, 15 Mei 1996) genoem het, was dié van Hymne Weiss se Die towertapyt. Hy het haar "verwyt dat sy ewe 'geredelik as ’n skoolmeisie ... vreeslik literêr (raak en) die liewe verkleinwoordjies hoogty (laat) vier', terwyl sy haar idealisme 'tooi ... met handvolle van die blommigste woorde'. En oor die bundel Die rustelose skryf hy dat Vincent van der Westhuizen 'skribeer en transkribeer met onverdrote skribentemoed'."

Dit is dan ook te verstane dat Antonissen as gevolg van die uitsprake wat hy gemaak het, nie baie gewild as literator was nie. Daar was kringe waar hy byna ’n gehate persoon was, en die letterkundige tydskrif Helikon was gereeld die bron van "giftige aanvalle" op hom. Kannemeyer het Helikon beskryf as "die tydskrif van ’n groep mislukte skrywers in en rondom Johannesburg". In die laat 1950's het Antonissen hom in Standpunte negatief uitgespreek oor twee bundels opstelle van WEG Louw en dit het tot ’n redelik onsmaaklike polemiek gelei.

Benewens sy resensies en artikels wat in Standpunte verskyn het, het hy ook bydraes tot Ons Eie Boek en Huisgenoot gelewer. Maar sy belangrikste bydrae was beslis sy geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede, wat in 1955 verskyn het met nog drie uitgawes daarna waarin hy die inhoud elke keer aansienlik uitgebrei het, die laaste in 1973. Wat vir Kannemeyer opgeval het van hierdie werk, "is die skerp afbakenings, verbandleggings, en integrale behandeling van skrywersfigure, terwyl sy besprekings van bepaalde outeurs van juiste insig en oordeel getuig. Sy boek bly ’n bron waaruit die ondersoeker van vandag (1996) steeds kan put."

In Die Burger van Maart 1956 het Ernst van Heerden Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede as ’n "groot werk oor die Afrikaanse letterkunde" bestempel. In hierdie werk het Antonissen nie ons letterkunde stereotipies verdeel in poësie, drama en prosa nie. Dít was vir Van Heerden ’n "getrouer metode om die geestelike verskynsel bo en inhoud bo genre te stel en ’n skrywer se bydraes as entiteit te sien".

In 1955 is Antonissen en sy gesin vir ses maande met vakansie na Europa en met hulle terugkoms het hy gesê dat hy tydens sy  besoek net weer onder die indruk gekom het dat sekere aspekte van die Afrikaanse letterkunde van daardie tyd nie terug hoef te staan vir die Nederlandse letterkunde nie. Volgens hom was die Afrikaanse digkuns met digters soos NP Van Wyk Louw en DJ Opperman baie sterker. Veral van die Vlaamse letterkundiges het met hom saamgestem.

Antonissen het met sy terugkeer na Suid-Afrika aan Die Burger (17 Februarie 1956) gesê: "Die Nederlanders weet min of niks van die moderne Afrikaanse letterkunde. In sommige bloemlesings word werke van die ouer digters opgeneem, maar geen voorbeelde van die werk van die jonger digters nie. Die onkunde kan grootliks toegeskryf word aan dat daar feitlik geen Afrikaanse boeke in Nederlandse boekwinkels is nie. Ek het nêrens Afrikaanse boeke teengekom nie. Afrikaans word, op een uitsondering na, nie aan die universiteite gedoseer nie, hoewel daar sprake is dat ’n leerstoel in Afrikaans ook aan die Universiteit van Gent ingestel sal word."

Antonissen se belangrikste studies en kronieke oor die Afrikaanse letterkunde is in 1963 in Kern en tooi gebundel en in 1966 in Spitsberaad. Kern en tooi bevat resensies oor letterkundige werke van die tydperk tussen 1951 en 1960, wat almal betreklik kort na verskyning van die betrokke werke geskryf is as eerste indruk en hoofsaaklik in Standpunte gepubliseer is.  Antonissen se sonderlinge vermoë om so kort na die verskyning van 'n werk 'n juiste waardeoordeel te maak, word hierin bevestig. Die titel van die bundel verwys na sy doelwit om die kern van 'n werk te skei van die tooi of versiersel wat dit omring, sodat die wese nagespeur kan word. Hierdie tienjarige kroniek word opgevolg met die soortgelyke vyfjarige kroniek Spitsberaad, waarin resensies geplaas word van werke wat vanaf 1961 tot 1965 verskyn het. Hierdie resensies het ook hoofsaaklik in Standpunte verskyn, ander in Dagbreek en Sondagnuus, Die Huisgenoot en Kriterium, terwyl enkeles voorheen ongepubliseer was. (Kyk E Lindenberg: Kriterium, Oktober 1963; R Schutte: Standpunte, Nuwe reeks 51, Februarie 1964.)

WF Jonckheere het Antonissen se studies oor die Nederlandse letterkunde gebundel in Verkenning en kritiek wat ná Antonissen se dood gepubliseer is (in 1979). Die artikels en kritiek in hierdie bundel was nog nie voorheen gepubliseer nie. Sy intreerede, “Die Christelike en die tragiese”, is ook hierin opgeneem.

Antonissen se letterkundige artikels en boekresensies verskyn in verskeie publikasies, onder andere Belgiese Nieuw Vlaanderen, Dietsche Warande en Belfort, Kultuurleven en Boekengids en die Suid-Afrikaanse Standpunte, Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, Die Huisgenoot, Dagbreek en Sondagnuus en Kriterium.

Antonissen vertaal die Middeleeuse drama Die ware en wonderbaarlike verhaal van Mariken van Nymegen in Afrikaans en dit word in Julie 1963 by Rhodes-universiteit se kunsweek vir die eerste keer opgevoer. Die vertaling word later gepubliseer nadat dit deur sy dogter Rike Vaughan geredigeer is en Edith Raidt 'n inleiding geskryf het.

Behalwe dat hy ’n aktiewe bydraer tot buitelandse ensiklopedieë was, asook tot letterkundige tydskrifte in Nederland, het hy hom ook toegespits op die verdere studie van verskeie tale, soos Grieks, Latyn en Goties, en Frans, Duits en Spaans. Hy was ook ’n ywerige deelnemer aan regiewerk en kamermusiek, veral die klavier en orrelspel.

Antonissen was lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was in 1972 lid van die keurkomitee wat die Hertzogprys moes toeken. Hy was ook lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde in Leiden, en van die Koninklijke Zuidnederlandse Maatschappij voor Taal-, Letterkunde en Geschiedenis wat in Brussel gesetel is. Die Koninklijke Vlaamse Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde in Gent het in 1969 erelidmaatskap aan hom toegeken. Ná die afsterwe van NP Van Wyk Louw in 1970 was Antonissen die enigste buitelandse lid van die Vlaamse Akademie.

Reeds voor sy afsterwe het die Belgiese regering besluit om ’n silwermedalje aan Antonissen toe te ken ter ere van sy bydrae tot die Nederlandse kultuur en sy diens aan die Nederlandse gemeenskap in België. Hierdie medalje is in November 1972 deur die destydse Belgiese konsul in Port Elizabeth, M Bovijn, aan Antonissen se weduwee oorhandig. Antonissen het hom voortdurend beywer vir die behoud van Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite en wanneer hy as gasdosent in België getoer het, het hy die skakeling tussen die Nederlandse taal en Afrikaans beklemtoon, asook die skakeling tussen die twee kulture (Daily Dispatch, 10 November 1972).

In 1973 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek postuum aan Antonissen toegeken. Tydens die toekenningsplegtigheid het CJM Nienaber gesê: "Belangriker as die omvang, die verskeidenheid en die invloedsfere van professor Rob Antonissen se bemoeiing met Afrikaans, is die gehalte daarvan. Sy werkywer het sinvol geword juis danksy ’n skerpsinnige waarnemingsvermoë en ’n ontwikkelde onderskeidingsvermoë. Daarvan getuig nie net sy herwaarderings van gevestigde werke nie, maar ook sy kensketsings en waardebepalings van nuwe werke. Boonop kon hy op ’n duidelike manier rigtings aandui, sowel vir die woordkuns as vir die kritiek, sodat sy invloed ook in dié opsig vormend was.

"En van kliekerigheid was daar by hom geen sprake nie. Indien gewettig, moes die werk van iedereen dit ontgeld, want hy het die objektiewe wetenskaplikheid van sy bedryf gestel bo persone." (Die Burger, 30 Junie 1973)

Rob Antonissen is op 23 September 1972 in Port Elizabeth aan longkanker oorlede nadat hy ’n hele rukkie siek was. Hy het sy vrou, Liesje, en drie dogters, Rike, Helga en Elizabeth, agtergelaat.

Hy is op 26 September 1972 vanuit die St Patrickskerk in Grahamstad begrawe. Die diens is deur vader Tom O'Dea gelei.

Huldeblyke

  • Aart de Villiers, nagraadse student van 1953 tot 1957: "Ek sal nooit die vitaliteit en polsende lewensvreugde van die fyn beskaafde, elegante dosent vergeet nie. Sy helder insig en akute humorsin, vlymskerp intellek gepaard met opregtheid en diep menslikheid het hom ’n ideale studieleier gemaak. Die artistieke integriteit, kennis en insig van die Afrikaanse letterkunde maak die geskrifte en gedagtes van prof Antonissen standaardwerke. Hy het ’n objektiwiteit in sy letterkundige kritiek openbaar wat ’n mens vergeefs by die gebore Suid-Afrikaner soek." (Die Transvaler, 25 September 1972)
  • WEG Louw: "Prof Antonissen het hom goed ingewerk in die Afrikaanse letterkunde en vanweë sy groot kennis van die literatuur in die algemeen, en sy besonder goed ontwikkelde smaak, was hy een van ons toonaangewende kritici. Hy was baie jare mede-redakteur van  Standpunte. Sy dood is vir ons letterkunde n groot verlies." (Rapport, 24 September 1972)
  • Ernst van Heerden: "Met die dood van prof Rob Antonissen verloor die Afrikaanse letterkunde sy skerpsinnigste kritikus. Hy het ’n standaard in ons letterkunde kritiek gestel wat waarskynlik nie gou geëwenaar sal word nie. Hy het nie gehuiwer om swak werk van reeds gevestigde skrywers genadeloos aan te val nie; die wenner van ’n letterkundige prys is net so objektief beoordeel as ’n beginner." (Rapport, 24 September 1972)
  • John Kannemeyer: "Prof Antonissen was deur sy werk oor sowel die poësie, prosa en drama die veelsydigste kritikus wat nog op die gebied van die Afrikaanse letterkunde werksaam was. Veral sy analises van Van Wyk Louw en Opperman behoort tot die beste kritiek wat ons in Afrikaans het." (Rapport, 24 September 1972)
  • TT Cloete: "Prof Antonissen was ’n deeglike kritikus wat hom met volkome begrip in ons letterkunde ingeleef het." (Volksblad, 25 September 1972)
  • AP Grové: "Hy was ’n skerp kritikus, maar baie deeglik. Hy sal onthou word vir sy belangstelling in die hele letterkunde." (Volksblad, 25 September 1972)
  • Mevr JL: "Behalwe ’n integere en bekwame literator was Antonissen ’n beminnelike mens met veelsydige kwaliteite, tuis in Afrika en Europa." (Zuid-Afrika, Oktober 1972)
  • JM Hyslop, destydse visekanselier van Rhodes-universiteit: "Rob Antonissen was a man of great intellectual power. He not only possessed an exhaustive knowledge of his own subject but also a tremendous fund of background knowledge that helped to make him such an interesting lecturer. When teaching he was completely absorbed in his work and he and students were often surprised to find how long they had continued beyond the end of a period on a timetable. In his work within the university he was known to be at all times conscientious, just and reasonable. This was in keeping with the unfailing courtesy that marked his relations with colleagues and students alike." (Weekend Post, 23 September 1972)
  • R Pheiffer: "Rob Antonissen se enorme werkkrag, wye belesenheid en sy nougesette aandag vir presiesheid en grondigheid het van hom ’n inspirerende dosent genaak. Onder sy meer persoonlike eienskappe het getel: ’n innemende geaardheid, beskeidenheid, en ’n immer aanwesige bereidheid om te help, daarby ’n diep toegewyde Christelikheid. Hy was intens musikaal – en was altans nog kort na sy koms na Suid-Afrika ’n bekwame en sensitiewe pianis." (Die Burger, 4 Oktober 1972)
  • Dirk JJ Pretorius: "As ek ’n monument aan die nagedagtenis van Rob Antonissen moes oprig, sal dit wees enkel om sy enorme bydrae tot daardie sy van ons letterkunde waar die veld skraal was, aan bevoegde outoriteite, sonder bymotiewe." (Daily Dispatch, 30 September 1972)

Ná Rob Antonissen se afsterwe het André P Brink ’n huldeblyk in Rapport (1 Oktober 1972) geskryf: "Met die alte vroeë dood van Rob Antonissen het daar vir die Afrikaanse letterkunde ’n venster toegegaan. Nie net ’n venster wat lig en lug van buite binnegelaat het nie, maar een wat dit vir ons moontlik gemaak het om van binne af buitentoe te kyk en te praat. (...)

"Deur sy lang verbintenis met die Rhodes-Universiteit as lektor, professor en naderhand vise-rektor, deur sy medewerking aan Standpunte en sy lang reeks publikasies het hy algaande die grootste kritikus geword wat ons literatuur nog geken het en in baie jare sal kan ken.

"Wat NP van Wyk Louw vir ons poësie beteken het, was Rob Antonissen in ons kritiek, en dan gebruik ek die woord 'kritiek' nie met die geurtjie wat daaraan kleef wanneer die meeste skrywers oor die meeste kritici praat nie. Rob was nie, soos soveel ander, ’n mislukte skrywer wat kritikus geword het nie, maar ’n skeppende mens wat hom in sy kritiese werk verwesenlik het. Skepper in sy eie reg, en eintlik medeskepper aan elke sinvolle werk wat hy ondersoek het. So onontbeerlik soos Vergilius vir Dante was, so onontbeerlik het Rob vir die literatuur van ons land geword. Innemende, skerp en weergalose gids deur onontdekte streke.

"In belangrike mate het hy dit geword omdat hy in sy werk, soos in sy lewe, geweier het om ooit ’n kompromie met middelmatigheid aan te gaan. Alleen deur die hoogste van die literatuur te eis, dit het hy geweet, kan die hoogste op die duur voortgebring word.

"In ’n situasie waar te veel mense verskoning soek in "'n jong literatuur" of "'n jong land" - asof jeug enige sondes vergoeilik – het hy onwrikbaar elke werk, van die belangrikste tot die onbenulligste, gemeet aan die beste wat geskryf kan word.

"Hiervan was selfs sy skryfstyl simptomaties. ’n Styl wat vir die oningewyde soms ’n struikelblok was, maar wat die ernstige soeker opgeval het as net so ’n fyn, veelduidige en gevoelige instrument as die styl van enige groot skrywer. Sy styl was so 'moeilik', want so saamgedronge en ryk, as dié van ’n Henry James of ’n James Joyce. Dit was deel van ’n instelling wat geen toegewings gedoog nie – nòg aan partydigheid, nòg aan vriendskap-agter-die-boek, nòg aan literêre 'politiek'."

Brink het verder vertel hoe daar nie net in sy eie laai nie, maar ook in baie van sy skrywersvriende se laaie, manuskripte lê wat nooit uitgegee sou word nie, bloot omdat Rob Antonissen nie gedink het dat dit goed genoeg is nie. Só het Antonissen se oordeel hulle gehelp om hulle werk, asook hulleself, beter te leer ken en te verstaan. "Wat hy op dié wyse in ons literatuur ingebring het – die sin van standaarde bowenal – het hy gebalanseer deur weer die Suid-Afrikaanse werk van gehalte oorsee bekend te stel deur lesingreise in Nederland en België, deur artikels in tydskrifte en ensiklopedieë in Nederland, Italië, Frankryk, Duitsland en Engeland. (...)

"Vir dié van ons wat hom in die konteks van ons werk leer ken het, skrywers en digters, dramaturge, akademici, studente, is sy dood ’n onherstelbare verlies. Vir dié van ons wat hom ook as mens geken het, is dit ’n ontsetting – nie net vanweë die Sartreaanse probleem van wat 'kan mens ken van ’n mens' nie, maar eenvoudig omdat jy stom gelaat word voor die herinnering aan soveel integriteit, soveel liefde, soveel nederigheid, soveel menslikheid. In hom is kennis gesuiwer tot wysheid en het die lewe ’n dimensie van betekenis bygekry. (...)

"'n Venster is toe, maar in ons het hy vensters oopgemaak wat nooit weer sal sluit nie. Ons is arm vandag. Ons sit soos Leipoldt met ’n klein handjie vol waboomblare en gnarrabosblare, maar deur die bietjie blare is ons, in Rob Antonissen, vir altyd ryk."

Publikasies

Publikasie

Handleiding in het Afrikaans: een praktisch overzicht

Publikasiedatum

1942

ISBN

(hb)

Uitgewers

Brugge: "Wiek Op"

Literêre vorm

Taalkundige handleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Het individualisme van Willem Kloos: enkele kantteekeningen

Publikasiedatum

1944

ISBN

(hb)

Uitgewers

Leuven: Instituut Vla. Top.

Literêre vorm

Nederlandse letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Schets van den ontwikkelingsgang der Zuid-Afrikaansche letterkunde. 1e en 2e deel

Publikasiedatum

1946

ISBN

(hb)

Uitgewers

Diest: Pro Arte

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Herman Gorter en Henriëtte Roland-Holst

Publikasiedatum

1946

ISBN

(hb)

Uitgewers

Antwerpen: De Sikkel

Literêre vorm

Nederlandse letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Zuid-Afrika: poëzie en proza na 1900

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewers

Diest: Pro Arte

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1956
  • 1960
  • 1973

ISBN

062500163X (hb)

Uitgewers

  • Pretoria: HAUM
  • Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kern en tooi: kroniek van die Afrikaanse lettere 1951–1960

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

De hedendaagse Zuidafrikaanse letterkunde van 1930 af

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

 

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenia

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Spitsberaad: kroniek van die Afrikaanse lettere 1961–1965

Publikasiedatum

1966

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verkenning en kritiek: studies en referate. Saamgestel deur WF Jonckheere

Publikasiedatum

1979

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Rob Antonissen as samesteller

  • Zuidafrikaansche poëzie, bezorgde en ingeleid. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1943
  • Ek hou van Suid-Afrika: 24 éénstemmige Zuid-Afrikaansche volksliederen. 1944
  • Lyriek van Henriëtte Roland Holst-van der Schalk, bezorgd en ingeleid en van aanteekeningen voorzien. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1945
  • Een abel spel vanden winter ende vanden somer, naar het Hulthemsche handschrift uitgegeven; ingeleid en verklaard. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1946
  • Lyriek der Nederlanden. I tot IV, bezorgd en toegelicht. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1947, 1949, 1950 en 1953
  • Digkuns van die Nederlande. Deel 1 en 2. Kaapstad: Nasou, 1963

Rob Antonissen as  vertaler

  • Mikro: Toiings. Diest: Pro Arte, 1947
  • Alighieri, Dante: De goddelijke komedie. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1947
  • Banz, R: Geschiedenis der Latijn se letterkunde. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1949
  • Commelin, P: Antieke mythologie. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1950
  • Tolstoi: Anna Karenina. Antwerpen: De Nederlandsche Boekhandel, 1951
  • Drouven, Ernest: Om één jongensziel. 1956
  • Die ware en wonderbaarlike verhaal van Mariken van Nymegen. Kaapstad: Tafelberg, 1979

Artikels oor Rob Antonissen beskikbaar op die internet

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Rob Antonissen (1919–1972) appeared first on LitNet.

Christine Barkhuizen le Roux (1959– )

$
0
0

Sêgoed van Christine Barkhuizen le Roux

“Om te skryf, moet jy wil. Dit beteken om aan te hou en aan te hou.”

“My gunstelinggenre is die poësie – die presiesheid van elke woord, die juiste nuanse, die afgerondheid wat die poësie bring. Dis ’n bietjie soos ’n legkaart bou met woorde. As jy goed luister, sê die gedig vir jou wát wáár hoort. (En dit duur soms maande, soms wel jare.) Dit beteken egter nie dat ’n afgeronde gedig ’n ‘klinkklaar’ antwoord veronderstel nie.”

“Ek skryf, dink ek, elke dag. En hoe meer die onderwerp my pak, hoe langer die ure voor die rekenaar. Nie ’n dissipline van soveel uur of stip van so laat tot so laat nie, maar ’n innerlike dissipline opgelê deur dit waarmee ek aan die gang is.” (Rapport, 28 Mei 2006)

“Ek lees om te leer (skryf). En ook omdat ek nie anders kan nie – ek is verlief op letters.” (Rapport, 6 Mei 2007)

“En nie alle negatiewe kritiek is net daar om af te breek nie – soms is daar meriete in en móét ek my daaraan steur.”

“Ek hou daarvan dat elke woord in digkuns soveel gewig dra. ’n Mens moet letterlik oor elke woord dink en besluit of dit sy plekkie in die gedig werd is.”

“Ek skets egter net situasies in my verhale; ek kom nie tot gevolgtrekkings nie. Die leser moet self besluit wat hy of sy met dié gegewe sal maak.”

Wat krap Christine om? "Die onverdraagsaamheid van een mens teenoor ’n ander. Ek kan nie verstaan dat mense behae daarin skep om ’n ander te vertrap nie. Is ons nie almal weerloos en uitgelewer aan wat ons 'die lewe' noem nie? In Padmaker sê die dogtertjie vir haar ma: 'Mamma is liewer vir Oubie en Lenie.' En die ma antwoord: 'Jy máák daarna.' Dit maak my die bliksem in. Daardie houding, dat mense wanneer iets slegs met iemand gebeur, só kan reageer: Jy het daarna gesoek ..." (Huisgenoot, 10 Junie 2010)

Oor die verskil tussen poësie, kortverhale en romans: "Ek dink my prosa word nogal sterk beïnvloed deur my poësie. Poësie is meer gedistilleerd, maar by albei geld die soeke na die juiste woord. Ek dink dis eintlik ’n kwessie van oorskakel na ’n ander rat." (Beeld, 17 April 2010)

Is sy voltyds boervrou, wou Kirby van der Merwe weet: "Gits. Dis amper soos om vir iemand te vra of jy voltyds met ’n dokter of skrynwerker getroud is. My man is die toegewyde boer. Ek is gelukkig dat hy verstaan dat ek moet skryf om te leef, want sonder hierdie wêrelde in my kop – waardeur ek die lewe probeer ontrafel – sal ek nie kan bestaan nie." (Beeld, 17 April 2010)

"Menslike verhoudings is die ding wat my die meeste interesseer, die dinamiek binne ’n gesin, maar ook die invloed wat die verlede op ’n nuwe geslag het. Kan ’n volgende geslag dit regkry om ’n vasgelegde patroon te verbeek om só ’n nuwe vryheid moontlik te maak?" (Huisgenoot, 10 Junie 2010)
Hoe gaan sy te werk wanneer ’n tema van ’n nuwe boek beplan word? "Ek skryf eintlik oor dinge wat oor my pad kom en aan my begin krap – verál wanneer menslike onreg betrokke is. Natuurlik ontwikkel ek dan karakters asook die verloop van die verhaal, maar altyd op so ’n manier dat dít wat in die boek gebeur, werklik kon plaasvind. Daarom is dit vir my belangrik om baie navorsing oor ’n tema te doen sodat ek in die karakters se koppe kan klim en uitvind hoe hulle dink en doen. Verál waarom hulle doen wat hulle doen." (Landbouweekblad, 25 Januarie 2013)

Is dit vir haar belangrik om uit eie ervaring te skryf, wou Phyllis Green weet: "Ek skryf eintlik altyd so. Ek moet ’n verhouding hê met die mense wat ek gaan skep. Ek moet myself in die boek kan voel. Op ’n manier moet ek altyd self daar wees, nie as ’n karakter nie, maar my wese moet in die boek wees." (Sarie, 3 Januarie 2013)

Gebore en getoë

Christine (doopname Cornelia Christina) Barkhuizen is op 18 November 1959 in Vryburg in die Noord-Kaap gebore. Sy, haar broer en haar suster word groot in ’n “padmakersgesin”. Haar pa was ’n dieselwerktuigkundige wat aan masjinerie soos padskrapers, stootskrapers en laaigrawe gewerk het. Haar ma, ’n huisvrou, se passie was, en is, haar kinders. Hulle trek tussen die jare 1954 en 1980 rond tussen verskeie dorpe in die ou Kaapland, waar daar toe deur die regering hoofpaaie tussen die dorpe gebou is. Die drie kinders woon gesamentlik sewe verskillende skole by as gevolg van die voortdurende getrekkery.

Christine vertel aan Elmari Rautenbach (Huisgenoot, 10 Junie 2010): "As kind het ek en my ouer broer en jonger sussie so saam met ons ouers van padkamp tot padkamp getrek. Dit was ’n swerwersbestaan en die 'regte mense' het meestal met ’n gesonde dosis afkeer na die bewoners van die tydelike Masonite-huise gekyk.

"Ek was baie na aan my pa, maar het my ma nogal laat swaar kry. Ek was ’n moeilike kind, rebels, 'anders' ...”; sy sou nie skroom om haar mening te lug of te sê as sy nie met iets saamstem nie.

Christine vertel aan Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat dit ’n sub B-juffrou (juffrou Aucamp) op Steynsburg in die Oos-Kaap was wat haar liefde vir die letter vasgeknoop het. “Boeke was van altyd af ’n manier om ook op ander plekke te kan wees as daar waar jy jou bevind. Dié juffrou het hierdie leesgierigheid aangewakker. Ek onthou hoe ons as kinders elke Vrydagmiddag biblioteek toe gegaan het en teruggekom het met ses boeke onder die arm.”

Haar eerste leeservaring was vroeg in haar lewe. Sy vertel: “Die eerste keer dat ek self ’n verhaal gelees het, was in die jaar voor ek skool toe is – een van my broer se st 2-boekies. Oor ’n man wat waatlemoene verkoop langs die pad. Toe ’n vrou laatmiddag die laaste waatlemoen wil koop, wys hy haar ’n steekplek en raai haar af om dit te koop. Iets aan die egtheid van die man, van die storie, bly by my. Ek wil só skryf dat mense terugkom om ’n waatlemoen te koop, en geloofwaardig bly.” (Rapport, 6 Mei 2007)

Verdere studie en werk

Christine studeer aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1980 haar BA-graad behaal met Bybelkunde en sielkunde as hoofvakke.

In 1980, kort voor haar gradedag en haar 21ste verjaardag, is haar pa op 47-jarige ouderdom in ’n motorongeluk oorlede. Haar ma se beserings was so ernstig dat sy nie die gradeplegtigheid kon bywoon nie. "Dit het my omtrent 15 jaar gekos om die skok te verwerk," vertel Christine aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot. "Uit so iets moet ’n mens vir jouself sin maak. Uiteindelik het ek ’n gedig geskryf oor ’n meisietjie wat by die hek wag dat haar pa huis toe kom. Ek het dit eenkeer by die KKNK vir Hans du Plessis gegee om te lees. Sy kommentaar was: 'Christinatjie, dis nie ’n gedig dié nie, dis ’n roman ...'"

Haar pa se afsterwe het ’n baie groot invloed op die res van Christine se lewe gehad, vertel sy aan Elmari Rautenbach: "Ek's allermins ’n smartvraat, maar daardie intense verlies wat ek destyds ervaar het, het by my ’n deernis geskep vir mense wat verlies ervaar. My sielkunde-professor op Stellenbosch, Herman van Niekerk, het destyds vir ons gesê ’n sielkundige moet saam met die kind wat bang is vir spinnekoppe, onder die tafel gaan sit en sy vrees sáám met hom ervaar. Ek dink die dood van my pa het gemaak dat ek daardie empatie met mense kan hê."

Sedert 2001 studeer sy verder en behaal in 2002 haar honneursgraad met lof aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy volg dit op in 2005 met ’n meestersgraad, ook cum laude, in Afrikaans en Nederlands, met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. Haar skripsie fokus op die poësie van die Joods-Nederlandse digteres Judith Herzberg, met Wium van Zyl as haar studieleier.

Christine begin in 2006 met haar MA in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden. Sy was ook die wenner van die beurs vir skeppende skryfwerk wat deur NB Uitgewers en die Departement Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad toegeken word. Sy slaag hierdie graad met lof en die roman wat sy as meestergraadsprojek voltooi het, word in 2010 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Padmaker.

Christine en haar man, Bertus le Roux, ’n wyn- en vrugteboer, woon op ’n plaas 30 km van Barrydale in die Suidwes-Kaap af. Hulle het drie kinders, Joané, Albert en Carli. Sy meen dat die afgesonderde leefwyse op die plaas en in ’n kleindorpse gemeenskap ’n besliste invloed op haar skryfwerk het. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.

Sy erken teenoor Rachelle Greeff (Rapport, 28 Mei 2006) dat sy nie ’n goeie boervrou is wat melktert bak en ander boervroudinge doen nie, maar dat sy baie lief is vir die ghwarriebome en die grysgroen van die Klein Karoo. “Dít, dink ek, is wat my tot skryf gedwing het. Die afsondering hier, dertig kilometer buite Barrydale. Die natuur het my klankbord geword. Barrydale is my gemeenskap, ook my kerk.”

Een van Christine se groot liefdes is lees. Sy voel dat as jy lees, “reis” jy na ander plekke, situasies, mense. “Wie lees, leef soveel meer lewens as maar net een. En dis iets wat ek so dikwels dink: as ek meer lewens kon hê, want daar’s soveel wat ek nog wil sien, beleef en deel wees van. En as jou kinders jou sien lees, en die plesier wat jy daarin het, sál hulle lees – daai ou ding van woorde wek, voorbeelde trek.” (Rapport, 28 Mei 2006)

In 1994 woon Christine ’n ATKV-Skryfskool by en daarna is heelwat van haar gedigte in Literator opgeneem. In 1999 is sy weer na ’n ATKV-Skryfskool, waar die poësiekursus deur Breyten Breytenbach aangebied is. Dit was vir haar ’n groot aansporing toe hy sê hy kan sien sy “begin haar eie stem hoor”.

“Ek is eintlik Christine le Roux,” vertel sy aan Willemien Marais (Volksblad), “maar toe ek begin skryf het, was daar klaar ’n Christine le Roux. Eleanor Baker het soms onder die skuilnaam Christine le Roux gewerk, en ek kon beslis nie met iemand soos Eleanor Baker meeding nie! Gevolglik het ek besluit om my nooiensvan tot die vergelyking toe te voeg.”

Christine het artikels en kortverhale vir Insig geskryf en van haar kortprosa verskyn ook in Rooi Rose. Tussen 2000 en 2006 word verskeie van haar gedigte en/of verhale in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings opgeneem, soos Schoon schipAltijd dichtbijKostbare momentenVrede sluiten is wegen openenEen honderd dichters 3Mense is mense, Metafore van herlewing, As die son kom oogknipHonderd jaar laterVersreise en Woordreise. In 2005 en 2006 is van haar gedigte en kortverhale in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Van haar verse is ook in Groot verseboek opgeneem.

In 2000 het John van Reenen, die diskusgooier, haar na ’n voorleesaand op Stellenbosch in die Dorpstraat Teaterkafee genooi. Die digter Ronnie Belcher het sulke aande gereël waar digters kon voorlees en daar was ook geleentheid vir ongepubliseerde digters uit die gehoor. Christine se vriendin Cobie Cilliers het voorgestel dat sy ’n boekie van haar gedigte maak om daar te gaan uitdeel. Sy het die aand haar gedig “roudiens” voorgelees, maar nie die indruk gekry dat sy enigiemand “geraak” het nie. John het die boekies uitgedeel en Ronnie Belcher het ook een gekry.

Christine vertel op LitNet: “Twee maande daarna kom ek by die huis en my man sê: ‘Ronnie Belcher het gebel; hy soek jou – jy moet hom terugbel.’ Ek het dit gedoen sonder om enigsins opgewonde te raak, want ek het teen daardie tyd al harde lesse geleer oor mense, uitgewers, ander digters en lesers wat hulle nie aan die poësie steur nie; veral glad nie belangstel daarin om te kyk na die werk van nóg ’n ou (boer) vroutjie – soos Ronnie later gesê het om my siel uit te trek – wat nou ook gedigte wil skryf nie. Dus, ek het gebel, maar sonder om ooit te dink dat Ronnie dalk dink daar steek iets in my werk.

“Wat hy my oor die telefoon gevra het, was ‘Het jy nóg van hierdie gedigte?’ Ek het gesê, ja, ek het, en hy het gesê, ‘Stuur dit vir my.’ Ek het gesê ek sal dit pos. ’nee,’ het hy gesê, ‘faks dit, dis baie gouer.’ Die faksmasjien (wat ons nou nog het) het Noag gebruik om die buitewêreld te laat weet hy sit op Ararat, en dit het ure geneem om die omtrent 60 gedigte deurgestuur te kry. Maar ek het nie verwag dat hy dit ernstig sou opneem nie. In hierdie lewe is daar min mense wat ander sommer help – daar is uitsonderings, en ek het agterna met nog sulkes te doen gekry – maar dit is nie ’n algemene ding nie. Veral nie met iets soos poësie nie.”

Intussen is Christine en Cobie deur Marzanne Leroux-Van der Boon genooi om na die Afrikaanse Skrywersvereniging se jaarvergadering in die Kaap te gaan. Ronnie het ook gebel en vir nog gedigte gevra, aangesien hy baie goeie goed gevind het. Christine het gemeld dat sy Kaap toe gaan, maar Ronnie het ’n ander afspraak vir dieselfde aand gehad.

Die aand van die vergadering was die hoofspreker nog aan die praat toe Ronnie ingestap kom. “In sy hand het hy ’n bruin papiersak gehad, soos iemand wat op pad was om êrens ’n skof handewerk te gaan doen en sy toebroodjies daarin saamgeneem het. [...] Toe die vergadering verdaag vir die teepouse, het Ronnie na my toe gekom en gesê ek moet by hom kom sit en tee drink, want hy wil met my praat. [...] Hy het gevra of ek van my gedigte die dag daar het. Ek het gesê ja, ek het, want Marzanne het gesê ek moet iets lees, en toe vir hom gevra: ‘Maar wat dink jy? Dink jy ek moet lees, of nie?’ Sy antwoord was: ‘Ja, ek dink definitief so, en ek sal jou ’n baie goeie rede gee hoekom ek dit sê – want jou eerste bundel is vandag gepubliseer ...’ Hy het die papiersak wat langs hom op die vloer gestaan het, opgetel en ’n stuk of agt proewe van die bundel dimensie uitgehaal.”

In De Kat skryf Wium van Zyl (Februarie 2001) dat dimensie een van die sterkste en mooiste eerstelinge in ’n lang tyd is. "Die gedigte betrek ’n wye verskeidenheid temas – boervroue, verplant na harde, vreemde streke word stem gegee. Die veelvlakkige aandag aan die natuur is deel van ’n ryk verkenning van die menslike bestaan. dimensie bied egter ’n oes aan wysheid en sensitiwiteit in keurige verse uit ’n landskap waar ver en helder gekyk word, iets wat poësieliefhebbers nie mag mis nie.”

In Volksblad van 13 November 2000 skryf Bernard Odendaal en Sulette Bruwer dat die bundel nie sonder "mankemente is nie (hier en daar ’n gesogtheid, of ’n versierseltjie wat nie so funksioneel is nie). Al die gedigte bereik nie ruimer dimensies nie, tog is dit ’n goeie debuut wat van aansienlike digterlike rypheid en geslyptheid getuig. Hulle voel dat sy met haar debuutbundel ’n belangrike bydrae lewer tot die plaasliteratuur in Afrikaans en spesifiek op die gebied van plaasdigbundels waarvan daar maar enkeles in Afrikaans is. In dimensie word die boervroubestaan enersyds as ’n uitdagende, soms moeilike bestaan geteken; andersyds as ’n wêreld wat veel skoonheid en wonderbaarlikheid inhou. [...] Dit sou egter ’n verskraling van die bundelgegewe wees om dit te reduseer tot die verwoording van die plaaslewe. Die kompleksiteit van geometriese vorme waaruit (deur die digter self) die geskilderde figuur op die voorblad opgebou is, illustreer reeds die veelkantigheid van ervaringe waaroor dit in die bundel gaan.”

Hoewel Joan Hambidge (Die Burger, 12 Maart 2001) meen dat die bundel nooit uitgegee moes gewees het nie, is Fanie Olivier van mening dat daar verse in hierdie bundel is wat vir sekere lesers baie sal kan beteken en "wat bowendien die sê-krag van Afrikaans bevestig".

Vir kritiek skrik Christine nie, hoewel die resensie van Joan Hambidge oor dimensie haar geweldig geskok het. Dit het haar egter ook weerbaar gemaak, erken sy.

Tydens die ATKV se Skryfskool in April 2001 in Potchefstroom het Christine ’n lesing gelewer oor poësie, met verwysing na haar eie gedigte, en by die KKNK van dieselfde jaar het sy ’n voorlesing van haar gedigte gedoen tydens die program Verslantern. Sy was ook in 2001 die redakteur van PoësieNet, LitNet se poësie-afdeling.

In 2005 word Christine se kortverhaal “Persiese sprokie” aangewys as die naaswenner van die Stellenbosse Woordfees, Protea Boekhuis en LitNet se nasionale kortverhaalkompetisie. Rachelle Greeff se verhaal “Swiets in Rhodesië” is as die wenner aangewys. Christine se ander twee verhale behaal die vyfde en sesde plekke. Haar reaksie op die tweede prys: “Ek was heeltemal oorstelp. Ek het gehoop om in die bundel opgeneem te word, maar beslis nie om ’n prys te wen nie!” (Die Burger, 10 Februarie 2005)

In Januarie 2006 word sy aangewys as een van die vyf finaliste in LitNet se Beste Prosastukke van 2005 vir “’n Persiese sprokie”.

Christine se tweede digbundel, roset, verskyn in 2006 by LAPA. Op die agterblad skryf JC Kannemeyer: “In dimensie, haar debuut van 2000, bundel Christine Barkhuizen le Roux ’n aantal geslaagde verse waarin die woordgebruik, beelding en klankgevoeligheid reeds besonder opvallend is en van ’n sensitiewe poëtiese vermoë getuig. Dit sit sy nou voort in roset, ’n versameling kompakte, kriptiese, soms ook singende verse wat die leser musies meevoer. Sentraal in die bundel staan die Griekse Phaistos-tablet waarvan die 45 simbole nog deur niemand bevredigend verklaar kon word nie. Hierdie ‘old stone that cannot be deciphered’ (TS Eliot), en spesifiek die Griekse roset in die middel van die tablet, is dan feitlik die toonsleutel vir die belangrikste motiewe in die bundel: die kringloop van geboorte, dood en herrysenis; en die verlange na die afwesige liefde. Roset is nie alleen ’n vooruitgang opdimensie nie, maar in sy eie reg ’n sterk en waardige toevoeging tot die hedendaagse Afrikaanse poësie.”

Cecile Cilliers (Die Burger, 23 April 2007) noem Christine ’n sprankelende stem. “Soos die historiese roset, vra die bundel stiplees om die volle woordwaarde daarvan te ontdek. Barkhuizen le Roux is lief vir die ongewone woord. [...] Sy skrik nie om woorde op eiesinnige en eiesoortige wyse in te span nie. Dit gee aan haar poësie ’n uitsonderlike varsheid en sjarme, mits sy daarteen waak om té vergesog, té esoteries te word, en sodoende haar lesers vervreem. Poësie is metafoor en begrip, maar poësie is ook begrip. Die Phaistos-steen is aanloklik in sy geheimsinnigheid, maar uiteindelik verloor selfs die verbete navorser belangstelling ... Geboorte, groei, dood en herrysenis is van die temas wat in roset aan die bod kom, en elkeen van die onderwerpe toon Barkhuizen le Roux se enigmatiese, soms kriptiese aanslag. Dat sy haar aan haikoes waag (’n digvorm wat nie altyd met sukses in Afrikaans aangepak word nie), toon haar voorliefde vir die digte vers, en sy het wel sukses daarmee. [...] roset met sy wye verwysingsraamwerk (die bundel is van ’n register voorsien om sommige simbole en beelde te verklaar) is vanweë die ontginning van die Afrikaanse taal, maar ook ter wille van die liriese gehalte en die onverwagte metafore, ’n stuk digtersvreugde. Die naam Christine Barkhuizen le Roux is een om dop te hou.”

Ampie Coetzee (Rapport, 5 November 2006) begin sy resensie só: “Daar is gedigte waarin dít wat gesê word, analiseerbaar is van inhoud, onderwerp en tema; én dan die poëtiese. Maar dan is daar ook gedigte waar die gedig op sigself beteken, en dan nie eintlik saamgevat kan word nie. Só is die meeste gedigte van Christine Barkhuizen le Roux in hierdie nuwe bundel, roset. [...] Daar is by die digter ’n intense ervaring, visueel, van die natuur, waar waarneming en beskrywing ook ellipties werk. [...] Die assosiatiewe, die skeppende metafoor, wending, en veral die selfreflekterende vers bewys die poëtiese vaardigheid van Christine Barkhuizen le Roux.”

Volgens Bernard Odendaal (Volksblad, 30 Oktober 2006) verteenwoordig roset aan die een kant ’n bepaalde groei in Christine se digterskap, maar aan die ander kant tog ook nie. “Daar is ’n opvallende klank- en beeldgevoeligheid, wat tesame met die romantiese getinte kyk op sake dikwels tot mooi liriese uitinge aanleiding gee. Veral die natuurverse in afdeling drie van die bundel, en die gedigte oor die skugtere herontdekking van die erotiese liefde in afdeling 4, is sprekend hiervan. Die digter is haar klaarblyklik bewus van die gevare van ekstatiese liriese belydenisse, sodat sy ’n aantal strategieë aanwend om vormlike en stilistiese beheersdheid en objektivering in die hand te werk. [...] Barkhuizen le Roux is ook ’n skilder, en in sommige gedigte word natuur- en toneelsienings treffend tot woordgestalte geformeer, wat in die haikoes en ’n gedig soos skemerkombuis byvoorbeeld stillewe-agtig aandoen. Alles werk egter nie so goed uit nie. ’n Paar keer vind ’n mens dat ’n stuk beelding wat belofteryk gekonsipieer is, ontspoor as gevolg van ’n troebelheid of ’n ongeldigheid op reële vlak. [...] Daar is egter ’n klompie gedigte in roset wat enige individuele vers uit die debuut oortref.”

In 2010 is die Nederlandse vertaling van roset tydens die Boekebeurs in Antwerpen in België bekendgestel. Die vertaler was Joost van Hulle. Vir Christine was dit ’n wonderlike gebeurtenis, vertel sy aan Willem de Vries (Volksblad, 20 Julie 2010).

Christine se eerste bundel kortverhale, Waar koek en wyn ontbreek, word ook in 2006 deur LAPA gepubliseer. Die bundel was op die kortlys vir die M-Net Jan Rabie-prys saam met Dana Snyman en Johan Engelbrecht se Kaffertjie, wat gewen het.

Sy vertel aan Willemien Marais (Volksblad): "Ek skryf my verhale vir gewone mense; meestal vroue, maar nie doelbewus nie. Ek probeer egter ook om elke verhaal op verskillende vlakke te skryf sodat ’n mens dit as ’n blote storie kan lees, of as iets diepers. Ek skryf nie vir akademiese lesers nie, ek wil hê my verhale moet toeganklik wees.”

Christine huiwer nie om vraagstukke aan te pak nie. Iets wat haar baie na aan die hart lê, is die netelige kwessie van “subtiele onderdrukking”. Dít is daardie onderdrukking van vrouens deur hulle mans wat nie as “mishandeling” beskou kan word nie. “’n Mens hoor dikwels hoe ’n man in ’n geselskap opmerk dat hy sy vrou ‘toelaat’ om dit of dat te doen. Toelaat!" Sommige lesers en kritici het al haar bundel as negatief teenoor mans beskou, maar sy sê dit is beslis nie so nie. “Ek glo wel dat daar sekere sake is wat eenvoudig aangespreek moet word.”

Wium van Zyl sê hy moes by die lees van hierdie verhale gereeld dink aan die verskriklike oomblikke wanneer die lont sy lading bereik. “Die leser word gekonfronteer met die klein tragedies wat dikwels nie die koerant of statistieke haal nie. Juis daardeur word deernis gewek vir die eg-menslike.”

Hans Ester van Nederland (Zuid-Afrika, Oktober 2006) beskou Waar koek en wyn ontbreek as “een mooie bundel” wat hopelik deur ander gevolg sal word. “De enige valkuil door Christine Barkhuizen le Roux ligt in de afsluitende regels van veel van de hier verzamelde verhalen. De schrijfster neemt de lezer hier en daar te veel bij de hand uit angst dat het toch misgaat met het begrijpen. Ze kan dat begrijpen gerust aan haar lezers overlaten.”

Vir Belia van der Merwe (Literator, Augustus 2006) staan "afskeid, verlies en vervreemding voorop in hierdie aangrypende en goedgestruktureerde verhale waarin die leser volkome kan identifiseer met die uiteenlopende en eg-menslike situasies waarbinne die karakters geplaas word. [...] Die ruimte waarbinne ’n groot aantal verhale in Waar koek en wyn ontbreek afspeel, is die plaas. In ’n paar verhale val die klem veral op die afsondering en isolasie wat die karakters binne hierdie ruimte ervaar en hoe dit die tema van verlies en vervreemding ondersteun. As teenpool vir die plaas of platteland as verhaalruimte is daar twee verhale wat binne die stadsmilieu geplaas is. [...] Hierdie is werklik, soos [dit] op die agterblad gestel word, ’n bundel soos ’n ‘geknoopte mat met ineenvloeiende aardsgekleurde drade’ en lesers kan met verwagting uitsien na nog verhale uit die pen van Christine Barkhuizen le Roux.”

Carolyn Meads meen dat die bundel vir ’n besonderse leeservaring sorg en stel voor dat lesers al hul sintuie en verbeelding inspan en hulle in die stories inleef. “Laat woorde beelde word waar koek en wyn ontbreek.”

Hierdie verhale laat Lisa van Aswegen (Rapport, 28 Mei 2006) dink aan gevoelens van medelye en menslikheid vir jou medemens en vir haar is dit een van die redes hoekom sy hierdie redelik beskeie bundel sal onthou.

In 2007 het Christine ’n biografie van die Nederlandse skrywer Simon Carmiggelt gelees. “Hierin figureer die groot skrywersfiguur Heijermans, want ‘hij (had) geen deel aan de nieuwsgaring (nuussoekery). Hij legde alleen vast hoe grote nieuws de kleine mense beroerde.’ Hiermee vereenselwig ek my ook – om dít neer te skryf wat die mens ten diepste raak. Iets van ‘where do you go to ... when you’re alone in your bed’.” (Rapport, 6 Mei 2007)

Versindaba van 2009 se oorkoepelende tema was die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Om dit toe te lig is ’n kunsuitstalling in die Oude Libertas Ouditorium gehou van digters wat ook skilder, en ook van Christine se skilderye is daar uitgestal.

Padmaker, Christine se roman wat in 2010 verskyn het, word beskryf as ’n deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind wat een geslag op ’n volgende laat.

Christine vertel aan Elmari Rautenbach in Huisgenoot (10 Junie 2010) meer oor Padmaker. "Dit is die storie van Katrien wat voor ’n kruispad in haar lewe staan. Haar verhouding met haar man stuur op ’n mislukking af en boonop verdwyn haar bejaarde ma, met wie sy van kindertyd af ’n troebel geskiedenis deel. Daar is vir haar net een uitweg: Sy moet haar ma gaan soek. Toe sy haar motor se neus draai in die rigting van die padkampe waar sy grootgeword het, is dit haar pa se wyse woorde wat haar lei: om te weet waarheen jy op pas is, moet ’n mens onthou waar jy vandaan kom."

Christine het baie lesse by Etienne van Heerden geleer terwyl sy aan haar meestersgraad gewerk het, maar die moeilikste een was om te besef dat ’n mens se lewensverhaal nie altyd geskik is vir ’n storie nie: "jy moet nog fiksie daarvan maak".

Die verlede in Padmaker is dus Christine se verlede, maar die intrige is fiksie. "Etienne se rol was om sulke chevron-borde, daardie geel-en-swart waarskuwingsborde wat ’n mens langs die pad sien, op te hou, wat sê: Pasop! Dan het ek geweet hier is ’n beskrywing of karakter wat nie werk nie."

Katrien se ma se siekte word nooit in Padmaker by die naam genoem nie, maar daar is tog rigtingwysers in die boek wat daarop dui dat dit Münchhausen se sindroom is. Christine het aan die idee vir die roman gekom deur ’n vriendin se ma wat aan hierdie vreemde siekte gely het. Die invloed wat so iets op ’n hele familie kan hê, het ’n groot indruk op Christine gemaak, vertel sy aan Kirby van der Merwe in Beeld (17 April 2010). "Ek wou ook nog altyd iets oor die padmakerslewe skryf en hierdie twee heeltemal verskillende dinge het ’n eiesoortige dinamika verkry wat die storie gedryf het."

Stephanie Nieuwoudt skryf in Rapport (11 April 2010) dat Christine met Padmaker ’n "stuk ervaring oop geskryf het wat nog nie voorheen so grondig in die Afrikaanse letterkunde aangepak is nie. Hierin kry ’n mens te doen met die geskakeerdheid van menswees in die padkampe: die drinkers en die skellers teenoor die verfynde vroue en mans wat hulle kinders lei om opgevoede volwassenes te word. (...)

"Dis byna onmoontlik om ’n boek oor ’n emosionele reis te skryf sonder om die een of ander grootse naam in die sielkunde by te sleep. En ja, Jung se spore lê duidelik in onder meer die drome en in Ma Kinnie se bykans obsessiewe betrokkenheid by haar breiwerk.

"Maar Padmaker raak nie verstrik in allerlei intertekstuele verwysings wat die leser vervreem nie. Dis ’n boek wat op verskillende vlakke gelees kan word weens sy geskakeerde verwysings.

"Die leser wat net agter ’n lekker storie aan lees, het nie kennis van die sielkunde of letterkunde nodig om die boek te kan verstaan of, belangriker nog, te kan geniet nie."

Ook Adéle Dempers (Volksblad, 12 April 2010) was positief oor Padmaker: "Padmaker is ’n weldeurdagte, sensitiewe roman wat netjies geskaaf is. Dit sou kon deurgaan as deel van die molesteringsgenre en as sulks is dit effe neerdrukkend en wroegend. Tog het dit ’n interessante invalshoek met sy gelyklopende innerlike en uiterlike reistema. Die hoopvolle einde, die berusting en heling wat Katrien vind, maak die roman ligter. Barkhuizen le Roux kan ’n storie vertel, ons sien uit na meer."

En vir Jeanette Ferreira is dié roman ’n "knap en genoeglike, selfs ontroerende, leeservaring" (Beeld, 12 April 2010).

Christine se volgende bundel kortverhale, Wat die oog gesien het, word in 2011 deur Human & Rousseau uitgegee. In Die Burger (21 Maart 2011) sit Joan Hambidge die inhoud van die bundel as volg uiteen: "[D]it bevat anekdotes, herinneringe, reisverhale, ’n raamvertelling ('Verby') waarin die verteller se ervarings in jukstaposisie geplaas word met ’n vroulike werker se lot op die plaas en hoe vroue binne verskillende klasstrukture op die noodlot reageer.

"Hierdie verhale lewer implisiete kommentaar op vrouwees. Dikwels word in verhale, tersluiks, verwys na ’n beperkte begroting en ’n vrou wat van die man se begroting afhanklik is. Tog is daar reise buite die patriargie en sensitiewe waarnemings in ’n vreemde landskap (soos Turkye) waar verskillende gebruike en gelowe verhaal word."

Vir Hambidge is die gehalte van die verhale nie almal dieselfde nie. Daar is ’n klompie verhale wat baie knap is, maar dan is daar etlikes wat vasgevang is in die "anekdotiese of die momentopname".

Vir Riette Rust (Rapport, 1 Mei 2011) is Wat die oog gesien het ’n bundel wat geskryf is vir die leser en nie vir die resensent nie. Die verhale is toeganklik en die slotte van die meeste verhale het ’n impak. Die stories lees lekker, maar het ook diepte.

Hoewel die bundel kon gebaat het by besnoeiing van die aantal verhale en konsolidasie van sommige van die verhale, aldus Cilliers van den Berg, is die bundel nie sonder wins nie. Die verhale is toeganklik en baie lesers sal kan met die temas identifiseer. (Volksblad, 12 Maart 2011)

Christine begin in 2009 met ’n vertaling van Ingrid vander Veken se boek Papavers – ’n ontroerende verhaal van die lewe saam met ’n skisofreniese seun. Die vertaling, Papawers, word in Mei 2010 deur LAPA uitgegee. Tans werk sy aan nog ’n vertaling, De kinderspelen deur Marc Pairon, en nog ’n bundel nuwe kortverhale vir Human & Rousseau.

Christine het in Oktober 2009 Vlaandere besoek, waar sy saam met Jooris van Hulle (die vertaler van haar gedigte) en Ingrid vander Veken in die boekwinkel De Groene Waterman in Antwerpen opgetree het; in November 2009 het sy saam met Laurinda Hofmeyr in die Arenbergskouburg en in die Cultuurfabriek Sijsele opgetree.

Christine se volgende roman is in 2013 onder die titel Getuie gepubliseer. Hierin pak sy ’n redelik omstrede onderwerp aan, naamlik die Jehova se Getuies. Sy vertel aan die Landbouweekblad (25 Januarie 2013) dat sy in ongeveer 2007 ’n oproep van ’n skoolmaat van haar ontvang het. Hulle twee het ontmoet en die vriendin het aan Christine vertel dat sy grootgeword het in ’n gesin van Jehova se Getuies en dat dit haar lewe verwoes het. Sy kon nie na skool verder studeer nie en het ook emosionele probleme gehad.

Christine het dadelik geweet dat sy (op daardie stadium nog besig met Padmaker) een of ander tyd ’n roman wou skryf wat die lewe van só ’n persoon uitbeeld. "Ek wou aan mense wys hoe ’n individu in omstandighede vasgevang kan word en wat die verloop daarvan kan wees. In Getuie het ek die karakters se lewensloop bepaal op grond van dit wat werklik soms met lede van die Jehova se Getuies gebeur. Ek wou wys dat dié mense slagoffers is van hul leierskorps, en dat hulle, wanneer hulle daarin slaag om 'uit te gaan', bitter alleen in die wêreld is.

"Die titel Getuie slaan enersyds op die 'Jehova se Getuies', maar ook op die feit dat Maggie ’n getuie word van wat met Mignon gebeur, en van Bea, die vrou in die tronk, ’n niggie van Mignon. Eindelik word die leser ook getuie van wat in dié vroue se lewens afspeel."

Vir Christine was die grootste uitdaging met die skryf van Getuie om ’n ewewigtige verhaal van die Getuies te vertel – nie net oor die leiers wat die lede uitbuit nie, maar ook oor die gewone mense en die mense wat die Getuies verlaat het. Sy was ook lugtig dat dit nie moet lyk na ’n aanval op die Getuies nie, maar eerder sal wys hoe gevaarlik dit kan wees om in so ’n fundamentele groep jou man te kan staan en die gevolge daarvan. "Die uitgangspunt van my skryfwerk is altyd om vir die leser iets te probeer oopmaak waarvan hy tevore nie eintlik geweet het nie."

Christine het baie deeglike navorsing gedoen voordat sy Getuie geskryf het. Hierdie navorsing maak egter nie inbreuk op die vloei van die verhaal nie. Dit help eerder om die lesers bekend te stel aan die wêreld van die Jehova se Getuies en hulle meer breedvoerig in te lig oor die praktyke en geskiedenis rondom hierdie godsdiensrigting.

Oor hierdie navorsing vertel Christine aan Phyllis Green (Sarie, 3 Januarie 2013) dat dit as ondersteuning tot haar verhaal moes dien. Sy kon egter nie al die navorsing in die skryf van die boek gebruik nie, want sy wou nie ’n storie vol feite aan die leser opdien nie, maar die leser moet meer vertel word oor die Getuies. "Dis eintlik ’n godsdiens met twee verskillende bene. Die een is die leiers bo wat hulle volgelinge breinspoel en misbruik. Dis ’n geldmaak-organisasie. Daar is miljoene der miljoene dollars op die spel. Die mense wat in die veld werk, wat die publikasies verkoop en versprei, besef nie dis ’n geldmaakstorie nie. Ek wou die leiers blootstel en ek wou wys dat die Jehova se Getuies eintlik die prooi van ander mense is."

In Vrouekeur (22 Februarie 2013) skryf Willie Burger: "In Getuie word gekyk na iemand uit ’n klein subkultuur waarteen die groter gemeenskap vyandiggesind is. Die hoofkarakter, Maggie, ontmoet ná jare weer ’n skoolvriendin, Mignon. Op laerskool was hulle vir ’n klein rukkie boesemvriendinne, maar hul vriendskap het skipbreuk gely omdat Maggie se pa, maar ook die hele gemeenskap, dit vir Mignon onhoudbaar gemaak het omdat sy ’n Jehovasgetuie was. Die roman ondersoek die invloed van ’n gemeenskap se norme en die manier waarop sekere mense in- en uitgesluit word. Dit is egter ook ’n ondersoek van die vernietigende houvas wat ’n godsdiensgroep op individue kan hê. Dit is gewigtige temas en Barkhuizen le Roux lei die leser om met veel begrip en deernis na groepe en die invloed daarvan op mense te kyk. Die roman behels egter meer. Maggie ontmoet vir Mignon weer ná baie jare – as haar man al dood is en kort voor haar kleinkind in Frankryk gebore word. Wanneer Mignon selfmoord pleeg, raak Maggie ook by ’n ander Jehovasgetuie betrokke, wat tronkstraf vir moord uitdien, en sodoende leer sy geleidelik nog meer oor die effek van dié geloof op mense. In die proses ontmoet sy ook ’n ander skoolvriend – wat ’n hoë pos in die gevangenisdiens bekom het. Die verhaal gaan dus nie net oor die problematiek van ’n geslote groep se invloed op individue nie, maar dit word ook die verhaal van hul ontluikende liefde – terwyl sy dit geleidelik regkry om emosioneel van haar oorlede man los te kom."

Op LitNet skryf Dineke Volschenk dat die lees van Getuie vir haar baie bevredigend was. Een van die rigtingwysers in die roman is dat dit dui op die gevare van godsdiens, asook op die vernietigende invloed wat ouers op hulle kinders kan hê.

In Volksblad (19 Januarie 2013) skryf Riaan Grobler dat Christine ’n "knap skrywer is wat die destruktiewe natuur van fundamentalisme subtiel aanbied. Getuie is die soort boek wat die leser laat besin oor die donker kant van die godsdiens en die vernietigende invloed wat dit op mense se lewe kan hê."

In 2015 verskyn Christine se volgende bundel gedigte by Naledi onder die titel skynskadu. Dit is uitgegee met ’n CD waarop sy haar gedigte voorlees en waarop sangers ook van haar gedigte sing.

In “Woorde wat weeg” skryf Joan Hambidge dat "herinnering en haar skynmaat, nostalgie, belangrike dimensies in hierdie bundel” is. Op die agterflap beskryf Fanie Olivier die bundel as ’n "herroeping van talle verledes".

Die digter keer in hierdie bundel terug na die jeug, skryf Hambidge; vandaar die verse oor ouers en oumas en oupas en die bestaan op die plaas. Behalwe hierdie verse is daar ook lykdigte oor ander digters, soos Lucas Malan, Chris Lombard en George Weideman. In die laaste afdeling van die bundel vind die leser reisgedigte oor stede wat die digter besoek het en, skryf Hambidge, met "besinnings oor ’n stad, ’n besoek aan ’n museum of katedraal aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen land van herkoms en land van besoek".

Christine het in ’n gesprek met René Bohnen op Versindaba uitgebrei oor die reisgedigte: "Kyk, ek bly mos op ’n plaas, nie ’n landgoed nie, ’n regte egte boereplaas. Hier by ons is dit meesal droog; jy kyk die reën uit die wolke uit, en dan kom daar net ’n buurmansreën. Maar dis in die spanning tussen hierdie lap grond en die groter wêreld wat die skryfwerk gebeur. Dis om dit wat jy weet van jou eie wêreld te amalgameer met ’n nuwe omgewing. Om te beleef: hoe anders is ons – en hoe dieselfde is ons nie! En dan sien jy jou eie plek, dorp, plaas, met nuwe oë – kry jy nuwe beelde om die ou vertroude dinge mee te beskyf. Dan sien jy die man buite die Primada Katedraal in Toledo as iemand anders as die bedelaar voor die OK in jou eie dorp."

Vir Hambidge is Christine se herinnerings- en nostalgieverse die skerpste, terwyl sy die reisgedigte "minder gefokus" vind. Maar dit is ’n bundel vir diegene wat "hou van afgewerkte, dog toeganklike gedigte. Gedigte hoef nie vol intertekste en swaar verwysings te sit om te werk nie. Daar is ’n plek vir al die verskillende style in die huis van onse digkuns."

In ’n onderhoud met Bohnen op Versindaba oor skynskadu verduidelik Christine aan Bohnen dat dit nie haar bedoeling was dat die gedigte in die bundel oor ’n spesifieke tema gaan nie, aangesien sy nie so skryf nie: "Söteman praat van ‘impure en pure dichters’. Laasgenoemde skryf uit die hart, uit die taal, nie uit die aktuele gebeurtenisse van die dag nie. Ek dink dat my gedigte deur die jare heen ’n sekere strekking het, maar dit sien ek eers wanneer ek na ’n lang tyd die skryfsels langs mekaar sit. Dus, daar is nie vooraf ’n 'program' nie – eerder die resultaat van ’n stuk lewe wat geleef is, en waaroor daar agterna besin is."

Op Versindaba resenseer Marlies Taljard skynskadu en som sy die bundel as volg op: "En dit bring my by die totale aanbod van die bundel. Soos dit so dikwels met onlangse (en minder onlangse) digbundels gesteld is, is ook hierdie bundel te lywig. Dit behoort uit my bespreking in die eerste deel van die resensie duidelik te wees dat daar ’n aantal sterk gedigte in skynskadu is wat weldeurdag en deeglik afgewerk is. Barkhuizen le Roux kan wel dig, maar sy het nie die ondersteuning van ’n streng teksredakteur gehad wat, in haar eie belang, vir haar gesê het: 'Kill your darlings!' nie. Veral die laaste afdeling, wat 18 gedigte oor die reiservaring bevat, is heeltemal te lomp. Die meeste van dié gedigte kon myns insiens weggelaat gewees het ten einde ’n meer gebalanseerde digbundel te produseer. Minder gedigte beteken dikwels ook ’n waardevolle seleksie van goed afgeronde gedigte met groter diepgang. Ook die gebrek aan die metaforiese 'goue draad' wat die bundel tot ’n geheel sou kon saambind, ontbreek tot ’n groot mate deurdat te veel gedigte willekeurig opgeneem is en die klem waarskynlik geval het op 'wat kom in?', in plaas van op 'wat moet uit?'"

Christine se nuutste roman is Drieklawerblaar,wat pas (Augustus 2016) gepubliseer is. Die roman speel in die hede af in die Klein Karoo, waar Christine bly. "Drieklawerblaar verweef die verhale van drie karakters: Kate, ’n afgetrede verpleegster, Tinneke, gastehuiseienaar en weduwee, en haar hardkoppige buurman, Abel, ’n wildboer. Op die plaas Doringboomlaagte soek Kate na antwoorde: hoe het haar Ierse oumagrootjie hier, in Afrika, beland? Terselfdertyd is Abel gemoeid met sy familiegeskiedenis: watter houvas het die grond waarop Doringboomlaagte nou is op sy voorsate gehad? ’n Roman oor herkoms en grond, en hoe om vrede te maak met die verlede." (Uitgewer se inligtingstuk)

Publikasies

Publikasie

dimensie

Publikasiedatum

2000

ISBN

0620263369 (sb)

Uitgewer

Stellenbosch: Suider Kollege Uitgewers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Waar koek en wyn ontbreek

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336297 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

roset

Publikasiedatum

2006

ISBN

0799336939 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

In België 2010

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Padmaker

Publikasiedatum

2010

ISBN

97807981 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wat die oog gesien het

Publikasiedatum

2011

ISBN

 

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Getuie

Publikasiedatum

2013

ISBN

9778079815707 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

skynskadu

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780928316117 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drieklawerblaar

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780798174039

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Vertalings deur Christine Barkhuizen le Roux

  • Broeckhoven, Diane: Die buitekant van Meneer Jules. Kaapstad: Naledi, 2015
    • Botha, Danie: Die buitekant van Meneer Jules: Eggenote van ontslape man het laaste sê
    • Resensies
  • Van der Veken, Ingrid: Papawers. Pretoria: LAPA, 2010

Artikels oor Christine Barkhuizen le Roux beskikbaar op die internet

Artikels deur Christine Barkhuizen le Roux beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat die artikels wat oor Christine Barkhuizen le Roux  en haar werke op die internet nie volledig is nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

The post Christine Barkhuizen le Roux (1959– ) appeared first on LitNet.

Viewing all 321 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>