![]() Foto: verskaf
|
Sêgoed van Nicole Jaekel Strauss “Ek dink nie die motivering van enige kunstenaar lê bloot in hoeveel eksemplare sy kan verkoop nie; eerder in die oortuiging dat sy haar mark, beperk soos dit kan wees, in ’n bepaalde medium die beste kan bereik.” (Huisgenoot, 20 April 2017) Waar vind sy haar inspirasie? “In die wete dat my skryftyd beperk is en dat dit enige oomblik onderbreek kan word voordat ek klaar is met wat ek graag wou skryf.” (Sarie, 1 Oktober 2010) Kom die karakters na jou? “Soms. Soms gaan haal ek hulle. En ander kere dink ek hulle uit.” (Die Burger, 24 Mei 2017) Hoe gaan sy te werk? Maak sy aantekeninge van indrukke, word dit dan omskep? “Ek maak aantekeninge, neem foto’s, maak soms staat op my geheue. Maar die eindpunt van die idee is dikwels wêrelde verwyder van waar dit begin het. Dis maar ’n dinamiese en dikwels onvoorspelbare proses.” (Die Burger, 24 Mei 2017) Lees sy kookboeke vir die lekker? “Resepte is vir my soos stories. Ek gebruik my kookboeke as naslaanwerke, hulpmiddels en inspirasie. Ek kook ook graag daaruit, maar volg selde ’n resep presies.” (Netwerk24, 16 Augustus 2013) “Ek het begin skryf omdat ek iets nodig gehad het om my kop besig te hou. Maar nou skryf ek omdat dit vir my lekker is.” (Tydens die bekendstelling van Maal) Oor die uitdagings om ná die sukses van Maal ’n tweede bundel aan te pak: “Om tot die oortuiging te kom dat die eerste een nie net ’n ongeluk was nie. Om te aanvaar dat sekere lesers altyd een boek bo ’n ander sal verkies. Om wat ek destyds as enkelskryfprojek bestuur het, nou met ’n paar ander te moes deel.” (Die Burger, 24 Mei 2017) “Ek het ’n notaboek waarin ek gereeld aantekeninge maak en kontroleer dat datums en ander realistiese verwysings sin maak. Maar as ek aan die skryf is en die woorde vloei, sal ek eers klaar skryf en dan later teruggaan en aanpas indien nodig.” (Die Burger, 24 Mei 2017) Oor die sprong van die skryf van kortverhale na ’n roman in 2021: “Dit was ’n groot sprong. Al het ek my tweede bundel kortverhale as ’n eenheidsbundel aangepak en deurgaans dieselfde hoofkarakter gebruik. Die struktuur van die roman was vir my aanvanklik moeilik om reg te kry. Ek het meer as een keer geskommel aan die chronologiese lyne wat mekaar in ’n spel tussen hede en verlede kruis. Ek moes ag slaan dat die hoofstukke van die roman nie te veel soos afsonderlike kortverhale klink nie. Maar dit was ’n lekker leerproses, en ek sal graag in die toekoms verder daaraan skaaf.” (Netwerk24, 12 November 2021) Nicole hou daarvan om alleen te reis: “’n Mens is meer ingestel op en oorgelewer aan die vreemde as jy alleen reis. Ek hou egter ook daarvan om wat ek sien en beleef met my reisgenoot of -genote te deel en ander se insigte ten opsigte daarvan te kry. Dit is twee baie uiteenlopende ervarings.” (Netwerk24, 12 November 2021) “Ek hou my besig met boeke wat my verryk en waaruit ek iets kan leer. Die lewe is nie een lang gelukkige storie nie. Die meeste mense het een of ander kruis wat hulle dra. Daar’s baie min mense wat geen ongeluk, wroeging of verlies het nie. En as iemand ’n boek lees waarin hulle sien ander mense ervaar ook die swaarkry van die lewe, help dit hulle dalk.” (Sarie, 23 Desember 2021) In Om alleen te gaan beeld Nicole ’n verskeidenheid uiteenlopende verhoudings op ’n baie sensitiewe manier uit: “Dis iets wat ek wou sê. Daar is so ’n magdom verskillende tipes verhoudings wat bestaan en mens is geneig om vas te kyk in ’n stereotipe verhouding of in ’n patroon waarin ’n verhouding gegiet moet word. Ek dink mense moet daardie tipe vooropgestelde idees los. Hê ’n oopkop en ervaar verskillende tipes verhoudings vir wat hulle is.” (Sarie, 23 Desember 2021) Hou sy mense dop? “Ja, tot die mate dat my gesin vir my sal sê om op te hou kyk vir die mense. Ek is baie geïnteresseerd in mense en hul doen en late. Ook in dié van mense wat ek glad nie ken nie. Ek het myself al in trane verbeel oor wat iemand se storie is, wat natuurlik net in my kop is. Met ’n hoofkarakter soos Cato sal ek aan die begin vir myself neerskryf hoe sy lyk, hoe sy is, waarvan sy hou en waarvan nie. Baie van ’n karakter se persoonlikheid ontwikkel vanself sonder dat ek dit op hulle afdwing, veral iemand soos Da’oud wat ’n baie heethoofdige persoonlikheid is. Hy het tot ’n mate in my kop gespring, want hy kom met soveel kragdadigheid. Hy het soveel om te sê en te wys.” (Sarie, 23 Desember 2021) Hoe verander skryf (of die skryfdaad) jou as skrywer? “Telkens wanneer ek ’n sin voltooi, is ek ’n ander skrywer, ’n ander mens. Dis die voetspore van die vos in die sneeu, soos die digter geskryf het. Ek kyk terug en sien my merke, maar ek laat daardie teks, daardie woorde agter – die landskap is nie meer dieselfde nie. Anders gestel: Elke stuk kreatiewe skryfwerk laat ’n merk – goed of sleg – in my bewussyn agter; ’n item wat dan weer ’n invloed het op my werk wat volg. Die ongerepte sneeulandskap lê voor, en ek het ver om te gaan voor ek kan rus (om weer ’n ander digter aan te haal).” (Netwerk24, 23 September 2018) “Kuns het die mag om iemand se lewe heeltemal te verander en ’n geweldige groot rol in iemand se lewe te speel, oorwegend op ’n positiewe manier. As jy kyk na ’n kunswerk of jy lees ’n boek, hetsy oor ’n probleem wat jy herken in iemand anders of die een of ander toestand in die wêreld wat jou ongelukkig maak, kan dit dalk vir jou sin gee in iets wat nie vantevore sin gemaak het nie.” (Netwerk24, 13 September 2023) |
Nicole Jaekel Strauss is op 8 September 1972 gebore.
Sy vertel aan Phyllis Green in Sarie dat sy al skryf vandat sy kan: “Sinne, briewe, dagboeke, regsdokumente (bietjie later), maar ek het nooit gedink ek sal ’n boek skryf of ’n skrywer word nie. Trouens, steeds as ek my beroep op ’n vorm moet invul, skryf ek ‘Ma’.”
Ná Nicole in 2013 die resepteboek Kosblik in 2013 saamgestel het, wil Laetitia Pople by haar weet wat haar vroegste herinneringe aan kos en die plesier daarvan is: “Maurice Sedak se kinderverhaal In die nagkombuis, maar dit was nie bloot genotvol nie. Ek onthou dit met ’n tikkie angs: Ek was oortuig daarvan dat die bakkers die seuntjie saam met die brooddeeg gaan bak!
“Dan was daar natuurlik Proust en sy madeleines – in die eerste instansie die absolute plesier in die onthou van die koekie se smaak sonder dat die skrywer dit met ’n spesifieke herinnering in verband bring. Dit is die essensie van die smaak wat herroep en ek so genotvol vind. En dan, tweedens, die herinnering, wat saam met die smaak van die madeleine kom, van Sondagoggende by sy tante Léonie.” (Netwerk24, 16 Augustus 2013)
Verdere studie en werk
Nicole is ná skool na die Universiteit Stellenbosch waar sy haar gedurende die 1990’s inskryf vir ’n BCom-graad en ook ’n LLB-graad in die regte. Ná die verkryging van haar grade praktiseer sy as advokaat en word lid van die Kaapse Balie. Sy vertrek daarna na Londen waar sy vir ’n jaar lank woon en ook heelwat stede in onder andere Europa besoek. In 2009 behaal sy haar MA-graad in Kreatiewe Skryfwerk met lof aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Etienne van Heerden.
Nicole en haar man, Ben, en hulle drie kinders, twee seuns en ’n dogter, woon in Kaapstad, want “dis waar ons graag wil wees,” sê sy aan Sarie. In die vroeë 1990’s was sy goed op pad om ’n voltydse beroepsvrou en ’n prokureur te word, maar sy besluit om die beroepslewe agter te laat en voltyds by die huis te bly en na hulle kinders om te sien. En oor hierdie besluit was sy nooit spyt nie.
Sy vertel verder aan Phyllis Green: “Ek glo ook nie ek sou ’n boek geskryf het as ek gewerk het nie. Ek is ’n introvert, maar mense is vir my baie belangrik – in allerhande opsigte. Ek hou van die buitelug en ons stap gereeld. Ek is lief vir kos maak en lekker eet, musiek en kuns. En mal oor reis en om plekke te leer ken.”
In 2010 verskyn Nicole se eerste boek, ’n bundel kortverhale onder die titel Maal. En onmiddellik laat sy haar stem hoor in die Afrikaanse letterkunde. Die bundel loop in 2010 weg met die UJ-debuutprys en in 2011 met die Eugène Marais-prys vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk. Dit was ook op die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys.
Oor die UJ-debuutprys aan Maal beskryf die beoordelaars die boek as ’n “uiters belowende debuut en ’n deur-en-deur eietydse teks, maar met ’n kopknik in die rigting van die grootmeesters van die kortverhaal uit die vorige eeu”.
Phyllis Green wou weet hoekom sy juis die genre van kortverhaal gekies het. Hierop antwoord Nicole: “Ek was nog nooit ’n groot kortverhaalleser nie, maar met die aanvang van my MA in Skeppende Skryfkuns het my studieleier, Etienne van Heerden, voorgestel dat ek kortverhale skryf. Ek is baie bly ek het na hom geluister; die kortverhale het goed vir my gewerk omdat ek ’n storie kon aanpak en klaar skryf. Dit het perfek gepas by die gefragmenteerde aard van die skryfproses wat ek op die oomblik volg. En ek kon verskillende stemme en gegewens ontgin.”
Dit was egter nie sy wat die titel, Maal, uitgedink het nie, maar haar man, Ben: “Toe ek begin werk het aan die bundel het ek ’n paar temas gekies waarmee ek stories aan mekaar wou verbind,” verduidelik sy aan Green, “en een van die belangrikstes is eet en kos en maaltye. Maar die woord dui ook op hoe die karakters in die boek almal op een of ander manier deur die lewe gemaal word, dikwels meer as een keer. En hulle almal, soos die meeste van ons, is maar ’n bietjie ‘mal’.”
En of sy haar karakters op mense wat sy ken, baseer, sê Nicole aan Phyllis Green dat dit ’n baie gevaarlike ding is om te doen; dus beslis nie: “Maar nou met die herlees van die verhale in boekvorm – die eerste keer wat ek lees sonder om heeltyd alles te verander, want ek kan nie! – herken ek eienskappe (dikwels oënskynlike onbenullighede) wat ek onbewustelik by bekendes gaan leen het. Maar die karakters is almal fiktief, tot so ’n mate dat selfs in die een verhaal wat op werklike gebeure gebaseer is – ‘Aangekla’ – die hoofkarakter nie ’n persoon is met wie dit gebeur het nie.
“Maar ja, vreemdes gebruik ek wel. Of iets spesifieks aan iemand wat ek sien. Die paartjie in die koffiehuis in ‘Die konsert’ waarmee die bundel afskop, het byvoorbeeld aan ’n tafel langs ons by ’n restaurant in die Waterfront gesit. Om een of ander rede het hulle my gefassineer, maar die storie het ek uitgedink, en ek glo nie hulle sal hulself in die verhaalgegewens kan herken nie.”
Die uitgewers skryf as volg oor Maal: “Opwindende kortverhale wat die verplasing en gemoedstoestand van karakters in verskillende stede in Europa en Afrika onder die vergrootglas plaas. Hulle ervaar kos en maaltye as metafoor vir angs, eensaamheid of vertroosting. Die ritueel van maaltye word belig, en kos word ook op vormende teenwoordigheid in die karakters se menswees uitgebeeld – dikwels op paradoksale wyse. ’n Besonder sterk debuut.”
Op die agterblad van die gepubliseerde bundel van Maal skryf Abraham H de Vries: “Wat my Nicole Jaekel Strauss se Maal nie kon laat neersit het nie, is die skrywer se verrassende keuse van karakters en vertellers. Las nog daarby die aandag aan detail in elke verhaal, ’n vertelwyse wat herinner aan die pointillisme in die skilderkuns: uit die magdom klein besonderhede groei patrone wat – soos gewoonlik in die kortverhaal gebeur – aan die stories, byvoorbeeld oor ’n gewone huispartytjie, ’n onverwagse wending gee. Maal is in die ontwikkeling van die kortverhaal ’n besonder belangrike debuutbundel – een van die bestes van die afgelope dekade.”
En op LitNet skryf Thys Human dat bogenoemde uitspraak beslis nie misleidend is nie en dat die verhale in Maal hom baie beïndruk het. Hy sluit dan sy bespreking van Maal só af: “Die verhale in Maal gaan waarskynlik nie die leser se geloof in die wêreld herstel óf hom/haar van die inherente welwillendheid van moderne stedelinge oortuig nie. Die bundel bied geen onrealistiese hoop nie, maar konfronteer die leser eerder met allerlei ongemaklike, byna onverteerbare realiteite en uitdagings.
“Jaekel Strauss se indrukwekkende debuutbundel dwing jou egter wél om met nuwe oë na jouself én na die mense rondom jou te kyk – en dit is waarskynlik een van die belangrikste rolle wat letterkunde in enige tydsgewrig kan speel!”
Ook Marius Crous in Rapport van 30 Oktober 2010 se reaksie op Maal is gunstig. Hy skryf: “In hierdie debuutverhale van Strauss word die leser blootgestel aan die wedervaringe van ’n groep uiteenlopende en interessante karakters wat hoofsaaklik in verskillende Europese stede woon.
“Waar ’n karakter soos Bea haar kind se dood probeer verwerk deur elke dag in die park te gaan piekniek hou en haar lewe saam met haar kind rekonstrueer, is daar Hilde van Gent, wat maar te bly is dat haar kinders groot is en sy die stilte van die huis vir haarself kan hê. Dikwels kom dieselfde karakters in meer as een verhaal voor, soos die begaafde jong pianis Klaudia.
“Deurgaans is daar sprake van ontnugtering en verslingering in die verhale. Dit beeld ’n groep karakters uit wat weens omstandighede ontwortel word en ’n ander heenkome moet vind of wat die slagoffers is van manipuleerders. [...]
“Strauss se verhale is meesleurend. Dit werk in op al die sintuie. Vergelyk byvoorbeeld: ‘Die witloof ruik heerlik. Sy asem dit in voor sy begin eet. Sy neem ’n hap, doop ’n stukkie baguette in die sous, kou stadig. Sy drink nog ’n sluk wyn.’ [...]
“Strauss se bundel verdien om gelees te word. Dis heg geskryf en dit bied vir die leser ’n fyn waargenome inkyk op die lewens van ’n baie interessante groep karakters. Ek sien uit na ’n volgende bundel.”
Erika de Beer is in Beeld (26 September 2010) net so komplimenterend oor Maal: “In Gent bestaan die maal uit witloof met parmesaan en olywe. In Kaapstad is dit skaapboud en op die pad van Malawi af hoofsaaklik grond. Die kortverhale speel ook onder meer in Londen, Praag, Parys, Amsterdam, Barcelona, Zürich en Venesië af.
“Teen dié reeks kleurryke agtergronde begin Nicole Jaekel Strauss dan telkens ’n tapisserie van ’n storie borduur. Die klaarblyklike gemak laat dit lyk asof die stories hulself vertel.
“Die verteller is nie snoep met besonderhede nie. ’n Knippie sout en ’n sprinkeling peper en speserye word algaande by die dis gevoeg. Uiteindelik is baie van dié detail nie op sigself van belang nie, maar in die geheel hang dit saam om die leser midde-in gebeure te plaas. [...]
“Die fyn besonderhede dra daartoe by dat elke storie ’n feesmaal van woorde word en die leser nie kan ophou totdat die bord leeg is nie. En leeg is dit inderdaad telkens aan die einde, want daar is nie helde hier nie, geen deus ex machina om die mens van homself en sy omstandighede te red nie.
“Die karakters is feilbare mense wat in ’n mindere of meerdere mate tot die swaartepunt van swakke menswees uitsak – wat die onafwendbare nie kan aanvaar nie, wat aan die versoeking toegee of selfs skokkend makaber op hul omstandighede reageer.
“In dié sin – en dalk ook die toenemende gulsigheid waarmee ’n mens onder die verleiding van die meesleurende skryfwerk swig – is die bundel ’n saluut aan Jan Rabie se ikoniese maaltyd-kortverhaal, ‘Drie kaalkoppe eet tesame’. [...]
“Dis die moeite werd om die kragtige debuutbundel te lees, maar nie as jy bang is om met ’n vrank smaak in die mond gelaat te word nie.”
Tien jaar moes verloop voordat Queillerie Uitgewers Nicole Jaekel Strauss se tweede boek, As in die mond, gepubliseer het. Dit is weer ’n kortverhaalbundel, hoewel sy vroeër aan Phyllis Green van Sarie gesê het dat sy besig is met ’n roman.
Ook hierdie bundel word bekroon – hierdie keer met die Jan Rabie-debuutprys vir 2018, waarvan die bepalings verruim is om ook tweede prosawerke in te sluit. Die beoordelaars se commendatio lui só: “As in die mond word bekroon omdat dit die sterkste aansluiting vind by die gees van die spesifieke prys, naamlik die bekroning van ’n sterk teks en ’n outeur wat die potensiaal toon om in die toekoms ’n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde te word.
“As in die mond is ’n eenheidsbundel wat vernaam die storie vertel van ’n tragiese brand wat ’n familie vernietig. Die bundel gee ’n blik op verlies en posttraumatiese stres wat die leser bybly lank ná die lees van die verhale. Familieverhoudinge (tussen ouer en kind, maar ook grootouer en kleinkind) word verken. Soos in haar kortverhaalbundel, Maal, is daar ook ’n fokus op buitestanderfigure. Die leser kry telkens die gevoel dat hierdie karakters toeskouers is van lewens wat intens dog emosioneel-verwyderd beleef en geleef word. [...] Haar sterk punt blyk haar vermoë te wees om groot gebeure en emosies op ’n onderbeklemtoonde, maar steeds presiese en roerende wyse te skets. Die outeur raak dus ’n voyeur, nes haar karakters, wat skynbaar onbenullige detail weergee as tekens van die vure wat onderliggend smeul.” (Netwerk24, 23 September 2018)
Die inspirasie agter die bundel was ’n brand teen die hange van Tafelberg, vertel sy aan Laetitia Pople, “maar toe het ek nie geweet dit sal ’n kortverhaalbundel word nie”.
Pople stel dit aan Nicole dat kos weer hier ter sprake is en wou by haar weet hoe sy die belang van die ritueel van kosmaak, voorsit en geniet beskou: “Ek het dit nie hierdie keer doelbewus so beplan nie – met Maal het ek – maar lyk my ek kan dit nie help nie! Tussen die mens en die ritueel van eet en alles wat daarmee gepaardgaan, is daar ook ’n verhouding, ’n baie basiese en belangrike een. ’n Mens is werklik wat en hoe jy eet. Dit is deel van hierdie bundel soos wat kos en eet – of die gebrek daaraan – deel is van die lewe. Gegewe dus, al is ek nie so seker of dit altyd so heilig is nie.
“Maar, soos ook blyk uit die titel, is nie net voedsel nie, maar ook ander dinge wat ’n mens werklik of simbolies oor die lippe neem, belangrik.”
Nicole som As in die mond só op: “Die bundel gaan oor menslike ervarings en verhoudings wat dikwels ’n mate van trauma bevat. Die meeste karakters ondervind die een of ander katalisator wat lei tot ’n nuwe insig of ’n reaksionêre daad of die aanvaarding van ’n situasie.
“In sommige gevalle is daar wel ’n uitkoms. Ander kere nie. Maar ek dink in die meeste gevalle beëindig die verhale ’n sekere siklus, met uitkoms al dan nie.”
Sy verduidelik aan Elna van der Merwe (Huisgenoot) hoekom haar tweede bundel weer ’n bundel kortverhale is en nie ’n roman nie: “Ek het ’n roman oorweeg en begin skryf, maar geniet op die oomblik kortverhale en die struktuur daarvan asook die dissipline wat daarmee gepaardgaan. Ek hou daarvan om die flitslig te skyn op ’n kwessie wat vir my belangrik is; dit is net so ’n dryfkrag soos die storie. Daar is dalk ’n roman, eendag, ’n volgende fase dalk.”
As in die mond bestaan uit twaalf “meesleurende” kortverhale, skryf Van der Merwe. “Daar is onder meer die meisie wat ‘ná die brand’ by haar ouma en oupa moet gaan woon en Sondae stilletjies ’n hap uit haar mooi lang hare knip; Christopher wie se ma haar werk by Parow Tuisnywerheid verloor omdat hy ’n suurlemoenmeringue-tert vir ’n honger kind steel; Marika wat op ’n Griekse eiland woon waar haar buurvrou se verbrande vla die reuk van ‘verkoolde vet, vel, hare, naels, been’ oproep. [...] Christopher, die sjef in New York, wat nie sy mond aan suurlemoenmeringue-tert sit nie ...
“Die draad wat deur al die stories loop, is die as in die vuur. Maar ook die ‘wat as?’ Dieselfde karakters duik in verskillende verhale op sodat ’n mens jou ’n potensiële roman kan verbeel.”
Frederick Botha skryf dat Nicole Jaekel Strauss haar lesers behoorlik uitgehonger het vir die publikasie van haar tweede kortverhaalbundel, As in die mond – ’n hele sewe jaar tussen die verskyning van die eerste en tweede bundel.
En hy skryf: “Die uitnemendheid van die 12 verhale lê in die feit dat hulle, individueel beoordeel, treffend en geslaagd is: volwaardige, ontroerende kortverhale wat die kompleksiteit van menswees belig.
“Met As in die mond bevestig Strauss haar as een van die belangrikste, opwindendste en vernuftigste kortverhaalskrywers in Afrikaans. Ek wag reeds in spanning op die volgende bundel.”
In 2021 verskyn toe nie nog ’n kortverhaalbundel soos Frederick Botha gehoop het nie, maar Nicole Jaekel Strauss se eerste roman, onder die titel Om alleen te gaan.
Die vonk vir hierdie storie het gekom toe sy en haar gesin ’n klompie jare vantevore Egipte toe is en op die Nyl gevaar het: “Daar sal ’n storie hieroor wees,” het sy gedink. Hulle het die antieke tempels besoek en teruggegaan na die verlede van farao’s en gode. “As ek terugdink, onthou ek die gevoel van verlies wat ’n mens self ervaar wanneer jy op die Nyl vaar, en ook elders in Egipte,” vertel sy aan Laetitia Pople (Netwerk24, 12 November 2021). “Dis asof die landskap en omgewing self deur die eeue al geweldige verliese moes verwerk. Sommige oor ’n lang tydperk en ander met die spoed van ’n vloed.”
Die titel van haar roman, Om alleen te gaan, het hom nie self sommer by Nicole aangemeld nie. Dit is ontleen aan Elsa Joubert se roman, Water en woestyn: “Veral wou ek alleen gaan, omdat mens soveel meer afhanklik en soveel meer ontvanklik is as jy alleen gaan.”
Nicole verduidelik verder: “Die reisigers in my roman is elkeen op ’n alleen-reis, maar ‘gaan’ in die konteks van die titel verwys ook na die heengaan wanneer ’n mens die lewe verlaat.”
In Om alleen te gaan raak ’n droewige Cato, ’n afgetrede onderwyser van Suid-Afrika, bevriend met Da’oud, ’n jong Egiptenaar wat oënskynlik die lewe met ’n bitter woede pak: “Albei karakters is op reis en op soek: Cato na ’n manier om haar verlies te verwerk. Sy hoop dat dit deur die aflegging van ’n artefak (’n klein klipskilpad) moontlik sal word. Da’oud smag na boetedoening vir die skuldgevoelens wat hy koester teenoor sy oorlede broer en sy familie en die kultuur wat hy verlaat het.”
Die agtergrond van die verhaal is Egipte in die hede met die val van president Hosni Moebarak. En die geskiedenis en kultuur van antieke Egipte het Nicole nog altyd gefassineer, terwyl sy haar net so aan die moderne Egipte kan verwonder: “[D]ie religieë, politieke omwentelinge en persoonlike ervarings van gewone mense op die voetvlak van die stede en die soeks (Arabiese markte). Selfs die koskultuur, wat natuurlik soveel raakpunte het met ander lande in die Midde-Ooste.”
Dit is vir Nicole heerlik om navorsing te doen en sy het voor haar reis na Egipte wyd gelees en toe het sy ook die voorreg gehad om deur ’n wonderlike gids in Egipte vergesel te word: “Sy is die inspirasie vir die gidskarakter, Gihane [in die roman], wat nooit sonder ’n weldeurdagte en feitelik gefundeerde antwoord was nie – nie eens ons kritiese tieners kon haar uitvang nie. Toe ek met die boek begin het, het ek van voor af navorsing gedoen – boeke gelees en ure op die internet deurgebring en ’n kort kursus in Egiptologie by die Universiteit van Kaapstad se somerskool bygewoon. Navorsing hou egter nooit op nie. Daar is net só baie inligting!”
Jonathan Amid (Netwerk24, 11 Oktober 2021) se eerste sin van sy bespreking van Om alleen te gaan is: “Soos die gode dit sou bepaal, is Nicole Jaekel Strauss se eerste vollengteroman ’n juweel.”
Hy gaan voort en vertel so ’n bietjie van die verhaal agter Om alleen te gaan: “Cato van Staden, Suid-Afrikaans, diep in die 50, ’n onderwyseres met ’n liefde vir leer, maar wat dikwels haar eie geselskap verkies, los haar man en volwasse kinders agter om ’n bootreis op die Nyl af te lê. Soos met Anne Michaels se epiese, peinsende The winter vault, is die vroulike hoofkarakter besig om verskeie traumas te verwerk – veral die verlies van lewe, van wat kon wees, staan op die voorgrond. Cato se oorlede geliefde, Rebecca, het eweneens ’n ongewone artefak agtergelaat wat ’n bepaalde verantwoordelikheid op Cato se skouers plaas.
“Om alleen te gaan is dalk in die teken van verlies en verganklikheid gepen, maar is allermins voorspelbaar en strykdeur onthutsend. Daar is hope sjarme, selfs ’n aandoenlike speelse innemendheid. Aanhangers van die skrywer se briljante kortverhale behoort veel te vind om oor opgewonde te raak. [...]
“Stories – agtergrondstories, verskillende intertekste, mites en opvattings oor die Egiptiese gode en farao’s, vele verwysings na die buitewêreld self en die stories wat deur die feilbare, onbetroubaar subjektiewe geheue self geskape word – word deel van ’n besinning oor die onaflegbare: verlies en die dood. Ek was so beïndruk met die wyse waarop die skrywer twee verhale wat die meeste lesers goed sal ken, Agatha Christie se Death on the Nile en Jan Rabie se ‘Drie kaalkoppe eet tesame’, funksioneel by die verhaal betrek. Vir sommige karakters is dit die reis wat saak maak, vir ander die bestemming. Watter karakters in watter kamp val, is feitlik onmoontlik om tot reg aan die einde van die verhaal te bepaal – soos dit hier hoort. [...]
“Om alleen te gaan – onteenseglike bewys van die vermoëns om ook volkome as romanskrywer na vore te tree, en wat beslis nie bloot vir die literêre fynproewer gepen is nie – is heel moontlik die soort roman wat vir vele transformatiewe ervaring sal bied. Leesstof wat die alewige gedruis van die buitewêreld vir ’n klompie ure sal stil; prosa wat in enkele sinne die oog vogtiger laat, die hart beklem en uiteindelik ’n bestemming oplewer wat die geheel in ’n nuwe, oorrompelende lig plaas.
“Opnuut word die kontoere van die menslike toestand met buitengewone nuanse, treffende helderheid van taal en ’n omvattende empatie vir menslike swakheid en die brose beliggaam: lees Om alleen te gaan en beleef ’n onmiskenbare stem op volle toere. ’n Mens sien reeds reikhalsend uit na die volgende aflewering in die evolusie van Nicole Jaekel Strauss.”
Louise Viljoen (LitNet) sien Om alleen te gaan só: “Strauss se roman bly deurgaans onderhoudend, terwyl dit die groot kwessies wat die mens in die loop van die geskiedenis besig gehou het, aankaart. Slegs op enkele punte raak die oordra van inligting effe meganies en geforseerd, byvoorbeeld in die vertellings oor die farao Achenaten (57–8, 232–3), maar daarvoor kan ’n mens dalk die aard van ’n reisboek met sy digtheid aan informasie verantwoordelik hou. Die verhouding van Cato met haar twee kinders sou waarskynlik meer indringend uitgebeeld kon gewees het, maar ook hier sou die teenargument gelug kon word dat die boek eintlik fokus op Cato se verhouding met Rebecca en die verwerking van haar verlies. Verder sou die teoretiese kwessies ten opsigte van representasie, seksuele oriëntasie en feminisme dalk gebaat het by verdere ontginning binne die verhaalraamwerk.
“Een van die roman se sterkste punte is die ongedwonge wyse waarop dit in kleurryke Afrikaans ’n venster oopmaak op die Egiptiese geskiedenis en mitologie en dit lewend maak aan die hand van veral die intrige rondom Da’oud. Nog ’n sterk punt is die wyse waarop Strauss die abjeksie van ouderdom, siekte en armoede in die roman beskryf en in die verhaallyn integreer.
“Dit is dus ’n roman wat in alle opsigte ’n waardige opvolger vir Strauss se suksesvolle kortverhaalbundels is en wat by talle lesers byval behoort te vind.”
Nicole Jaekel Strauss se volgende roman, Deelfontein, word in 2023 gepubliseer en haal die kortlys van 2024 se ATKV-Prosaprys.
Deelfontein het as agtergrond die veldhospitaal op hierdie dorpie tussen vandag se De Aar en Richmond waar gedurende die Anglo-Boereoorlog ’n goed ingerigte militêre hospitaal was. Dit het bekend gestaan as die Imperial Yeomanry Hospital. Die hospitaal het op 17 Maart 1900 oopgemaak en op 31 Maart 1901 is dit afgeslaan.
“Daar was vir ’n kort tydjie ’n florerende gemeenskap met sy eie winkel en hotel,” skryf Willemien Brümmer, “opgerig deur die vioolspelende Joodse immigrant Adamstein, wat ’n fortuin uit die verkoop van volstruisvere gemaak het. Die hotel het egter al dekades gelede gesluit en die hospitaal was soos ’n koorsdroom in die Karoo – skielik was dit daar, kompleet met Franse sjampanje en Suid-Afrika se eerste X-straal-masjiene – en toe, binne ’n oogwink, was dit weg.”
Nicole vertel aan Brümmer dat ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog nooit by haar opgekom nie. Tot haar vriendin Magdel van der Walt in 2020 laat weet het van die kunstenaar Liza Grobler se “merkwaardige installasieprojek”, Voices from a divided fountain, en vir haar gesê het: “Hiér is jou volgende roman.”
Nicole was toe klaar geskryf aan Om alleen te gaan en het begin soek na haar volgende storie: “Ek het toe onmiddellik begin lees oor Deelfontein en ’n afspraak met Liza gemaak en ’n heerlike oggend in haar ateljee deurgebring. Sy het vir my vertel hoe dit vir haar op Deelfontein was en hoekom sy aan die projek begin werk het en sy het ook vir my ’n boek geleen, Yeomen of the Karoo, met ’n fantastiese worm’s-eye view van wat by Deelfontein gebeur het. Dit was in ’n groot mate die basis vir my roman.
“Toe ek nou begin met navorsing, het ek besluit ek moet gaan kyk hoe dit daar lyk en ons (sy en Ben, haar man) het ’n bespreking gehad om te gaan in Desember 2020, maar toe maak die provinsiale grense toe. Ons het toe weer ’n bespreking gehad vir Maart 2021, maar toe maak die skole toe, en ons kon weer nie gaan nie. In daai stadium het ek besef dis net ’n verskoning om nie te begin skryf nie. Die boek was al klaar toe ons uiteindelik gegaan het, maar ek het gevoel ek kan nie die ding publiseer voordat ek nie dáár was nie.”
Sy vertel oor dié besoek: “Dis ’n ver pad en jy kan nie op Deelfontein oorslaap nie en daar is geen selfoonsein nie. Jy moet spesifiek soontoe gaan. Toe ek en my man, Ben, daar was, het dit gereën en gehael en geblits en daar was ’n stofstorm. Dit het régtig vir my gevoel asof iets uit die aarde sê: ‘Wat het jy gedink toe jy hierdie storie geskryf het?’ Ek was bang en het vir Ben gesê: ‘Wat as dit ons nou hier doodslaan?’
“Die boek was toe al in die proewestadium, en ek dink ek het net een of twee woorde ingesit. Dit was nogal vreemd hoe baie die plek ooreengestem het met hoe ek my dit verbeel het.”
Die Britse mediese personeel het goeie werk daar gedoen, brei Nicole uit teenoor Willemien Brümmer. “Sowat 6 000 Britse soldate en plaaslike mense en selfs Boere is daar behandel; toe nie net Yeomanry nie. Net 134 mense is daar dood en omtrent almal van hulle weens ingewandskoors. Bitter min het aan hul wonde beswyk.”
In Deelfontein ontmoet die leser die jong Engelse dokter Oliver Glenville wat na Deelfontein en die Imperial Yeomanry Hospital reis. Dáár raak hy verlief op Klarissa Grootboom, ’n skoonmaker. “Sy pad kruis ook met dié van ’n rits historiese figure soos die Sherlock Holmes-skrywer, dr Arthur Conan Doyle,” skryf Brümmer, “wat tydens die oorlog diens gedoen het as dokter by ’n private militêre hospitaal in Bloemfontein. Hy ontmoet ook van Brittanje se mees gerespekteerde dokters en chirurge, soos dr Alfred Downing Fripp, die sogenaamde ‘master of the knife’, en dr John Hall-Edwards, die pionier van kliniese radiologie in Brittanje. Die hoof-mediese amptenaar op Deelfontein is die 43-jarige kolonel Arthur Thomas Sloggett, wat beskou is as een van Brittanje se vaardigste hospitaal-organiseerders.”
Vir Nicole was hierdie spel waar fiktiewe karakters kommentaar lewer op mense wat regtig gelewe het, heerlik: “Maar dit was nogal intimiderend om te dink dat ek woorde in die mond lê van iemand soos Conan Doyle. Ek het dus seker gemaak dat die karakters bly by die historiese beskrywings wat ek gelees het. Hall-Edwards, byvoorbeeld, word beskryf as ’n absolute gentleman, so in die boek was hy ook só.”
Die roman eindig egter nie met die Anglo-Boereoorlog nie en die leser reis saam met Oliver Glenville van die Karoo na die opiumhole van Sjanghai en dan maak dit ’n sprong na die Suid-Afrika en Londen van vandag.
En só verduidelik Nicole dit aan Brümmer: “Toe ek klaar was met die gedeelte oor Deelfontein, was dit vir my duidelik die roman is nog nie klaar nie – en ek wou hê dit moet eindig in die hede. Ek het toe begin kyk na waar anders daar in daardie stadium misbruik van mag was deur die Britse Ryk, en toe begin ek kyk na die mag van dwelms.
“In 1905 was ’n kwart van alle Chinese mans verslaaf aan opium en die Britse Ryk het ’n baie groot hand gehad daarin. Wat hulle in Suid-Afrika gedoen het tydens die oorlog, het hulle met dwelms gedoen in China.
“Jy kan ook nie skryf oor mag en nie iets soos die pandemie betrek as jy pas daardeur gelewe het nie: Die mag van die pandemie en die mag wat dit vir mense gegee het oor ander mense. Dis waar die derde deel vandaan kom wat in die hede afspeel.”
Die slotgedeelte speel 100 jaar later af en die leser ontmoet ’n opkomende kunstenaar, Klarissa Grootboom, wat ’n uitstalling oor Deelfontein skep sodat sy kan probeer sin maak van haar verlede en, volgens Brümmer, is die “reddende rol van kuns, die styfgespanne draad wat alles bymekaar hou – of dit nou Glenville se dollar-Brownie-kamera is of Hall-Edwards se X-strale of Klarissa Grootboom se uitstalling vol grafte en lakens met karmosynrooi verf bestreep”.
Dewald Koen (LitNet) meen dat Nicole Jaekel Strauss haar met Deelfontein bewys as ’n “vernuftige romansier”: “Op vernuftige wyse bring Jaekel Strauss die verskillende storielyne bymekaar en onderneem Klarissa nie slegs ’n reis op soek na haar familiegeskiedenis nie, maar ontdek sy geheime wat oor landsgrense en eeue heen strek. In dié opsig ondersoek Jaekel Strauss deur middel van die verteller verskeie aspekte van die verlede, insluitend kolonialisme, rassisme, oorlog, politiek, kuns en dwelmverslawing. Van Deelfontein na Sjanghai en weer terug na Londen onderneem die karakters ’n reis wat deur middel van ’n sirkelmotief twee karakters bymekaar bring om die trauma van die verlede te verwerk. Trauma is die belangrikste tema in die roman en vorm die kern van die gebeure oor kontinente en geslagte heen. Die trauma van oorlog, verlies, geweld, skuldgevoel, en die geskiedenis word stelselmatig ontbloot soortgelyk aan Klarissa se fiktiewe installasie-uitstalling gebaseer op die gebeure by Deelfontein tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog.
“Die roman in sy geheel bied meer as een vertelperspektief waarin belangrike geskiedkundige gebeure vanuit verskillende invalshoeke bekyk word. Die tydvakke word ook deur middel van taalgebruik (en meer spesifiek taalvariëteit) verwoord, veral by Klarissa. Die onderhoudende narratief word op geloofbare en realistiese wyse aangebied. Jaekel Strauss se feitelike gegewens is deeglik nagevors en op geslaagde wyse met fiktiewe gebeure vervleg. Oliver Glenville en Klara Grootboom se verhaal kan figuurlik gesproke as die verhaal van Suid-Afrika se traumatiese verlede beskou word.
“Deelfontein is ’n roman wat ’n unieke bydrae lewer tot die groter korpus fiksie rondom die Suid-Afrikaanse Oorlog. [...] Ten tye van belangrike openbare gesprekke rondom dekolonisering, restitusie en gepolariseerde Suid-Afrikaanse, maar ook internasionale groeperinge, is Deelfontein ’n belangrike roman wat gelees moet word.”
In haar bespreking van Deelfontein skryf Marni Bonthuys in Rapport dat hierdie roman een van ’n klompie romans is wat in die onlangse verlede uitgegee is – onder andere Die kapokdokter deur François Loots en Chris Karsten se Op pad na Moormansgat – “waar fassinerende dog minder bekende brokke Suid-Afrikaanse geskiedenis deur Afrikaanse skrywers herontdek en herverbeel word. Binne die postmodernistiese metafoor word sulke ‘kleingeskiedenisse’ petite histoire genoem. Deur die kleingeskiedenis word die meer amptelike geskiedenisse, die sogenaamde meesternarratiewe, ondersoek en dikwels ondermyn.
“In romans soos Deelfontein word hierdie kleingeskiedenisse dus sleutels om versweë gedeeltes van die Suid-Afrikaanse verlede te probeer ontsluit en só miskien te ontrafel hoe ons in die gemors beland het waar ons as Suid-Afrikaanse samelewing ons tans bevind. [...]
“Die roman is nie sonder gebreke nie. Daar is opvallend baie navorsing gedoen en verskeie historiese figure word in die storie ingebring. Die karakters se toevallige verbintenisse met figure soos Marie Koopmans-De Wet en Mao Zedong raak egter soms ietwat te dik vir ’n daalder. Ook die uitbeelding van verskillende perspektiewe in die onderskeie dele van die roman kon sterker wees. Sowel die dialoog in deel 1 as Klarissa se binnespraak in deel 2 is nie altyd oortuigend nie. Dit is asof daar te hard gepoog word om die verskille in hierdie perspektiewe en tydsgewrigte te beklemtoon, terwyl daar genoeg is wat vorm en aanpak betref dat die leser self die onderskeid kan doen. [...]
“Ondanks dié kritiek is Deelfontein ’n baie interessante roman met veel te sê oor die impak van geskiedenisse – groot en klein. Nog ’n tema wat dikwels in Strauss se werk figureer, is dié van die impak van generasionele trauma. Hierdie verskynsel gaan om ’n selfs nog kleiner kleingeskiedenis, naamlik die uitwerking van eeue oue oorgelewerde trauma op die individu. Van ouer tot kind dus, met die kind wat self later weer ouer word en sy of haar wonde aan nog ’n geslag oordra. In ons land sal dit altyd ’n relevante tema wees en een wat ons voortdurend oor moet besin soos onsself die ouers word van ’n nuwe geslag jong Suid-Afrikaners.”
Jonathan Amid is weer beïndruk met Nicole Jaekel Strauss se volgende roman, Deelfontein. Hy sluit sy resensie op Netwerk24 só af: “Die eerste ruweg tweederdes van Deelfontein is ’n oopskryf van, eerstens, mag, magsmisbruik en die patriargale stelsel, en tweedens die kataklisme van dwelms en dwelmgebruik – ’n soort liggaamlike oorlog wat van die verslaafde woed en tussen hom en sy gemeenskap en geliefdes. ‘Deel 2’ is dan ’n plofbare ondersoek, soos Lien Botha se Vin, na die mag van kuns: die rol van die kunstenaar, veral met die vraagstuk van trauma wat geneties oorerflik is (die veld van epigenetika), magsverhoudinge en die moontlikhede van kuns en kunswerke om herkoms en die verlede te verstaan en trauma teen te werk.
“Waar ‘Deel 1’ ’n ‘breër’ vertelstyl omarm, is ‘Deel 2’ doelbewus rondom die intimiteit, weerloosheid en dalk woede van die kunstenaar Klarissa Grootboom gebou. Haar manier van kyk is oneerbiedig en onverskrokke; stelselmatig word haar verdedigingsmeganismes vir ’n klein hartjie blootgestel. Die kontras van hierdie kloustrofobiese vertelling met vroeë dele is treffend. Tog sal sommige lesers voel dat daar stylgewys en in aanslag met betrekking tot hierdie sterk karakter oomblikke voordoen wat effe geforseerd is. Die Politiek van die Respektabele word juis onder die loep geneem.
“Strauss het oudergewoonte ’n geweldige slag met ’n slot. Hier word die drade netjies dog uiters gevoelvol byeengebring tot die laaste woord. Hierdie gevarieerde blootlegging, insigryke prosa as poging tot verstaan van menswees oor generasies, verdien ’n ereplek op die boekrak.”
Oor die karakters in haar verhale – veral in Maal – wat weerloos voorkom en ’n emosionele wroeging beleef, verduidelik Nicole aan Phyllis Green: “Ken jy die openingsin van Anna Karenina: ‘Happy families are all alike; every unhappy family is unhappy in its own way’? Ek kan dit nie beter as Tolstoi sê nie, behalwe dat my boek (Maal) oor ongelukkige individue gaan eerder as families, hoewel die families van die individue natuurlik in baie van die verhale saam met die hoofkarakters wroeg. Maar hulle is darem nie almal noodwendig ongelukkig nie; in sommige gevalle is dit eerder hul uniekheid of eienaardigheid wat ek probeer toelig.”
Publikasies:
Publikasie |
Maal |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780795800177 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Om alleen te gaan |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
978/0795801648 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Nicole Jaekel Strauss as samesteller
- Kosblik. Kaapstad: Queillerie, 2013 [ISBN 9780624064657 (sb)]
- Pople, Laetitia: ’n Kosblik vol van die geur van herinneringe. Beeld, 17 Augustus 2013
Artikels oor en deur Nicole Jaekel Strauss
- Bonthuys, Marni: “Elke stuk skryfwerk laat ’n merk”. Bloemnuus, 23 September 2018
- Coetzee, Carli: Woordfees-onderhoud: Nicole Jaekel Strauss kou aan ’n paar vrae van Carli Coetzee. LitNet, 27 Januarie 2011
- De Vries, Willem
- Akademie vereer skrywers. Netwerk24, 26 Maart 2011
- Digter Johann de Lange ontvang Hertzogprys. Beeld, 26 Maart 2011
- Green, Phyllis: 5 boekminute met Nicole Jaekel Strauss. Sarie, 1 Oktober 2010
- Nicole Strauss (Wikipedia)
- Rautenbach, Elmari: Van Niekerk en Strauss vereer met UJ-pryse. Die Burger, 2 September 2011
- Strauss, Nicole Jaekel:
- Brandende dans [kortverhaal]. Volksblad, 22 Desember 2012
- Foto’s wat boekdele spreek in debuut [resensie van Oktober deur Réney Warrington]. Beeld, 26 Maart 2012
- “Jy was gewees” [kortverhaal]. Rapport, 13 April 2014
- Met ’n ander pad terug [kortverhaal]. Beeld, 21 Desember 2015
- Spesiaal vir Kersfees [essay]. Volksblad, 22 Desember 2012
- Verhaal verwerk vir film. LitNet, 23 September 2014
Nicole Jaekel Strauss se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2025-04-30 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Nicole Jaekel Strauss (1972–) first appeared on LitNet.
The post Nicole Jaekel Strauss (1972–) appeared first on LitNet.